Quantcast
Channel: LitNet Akademies - LitNet
Viewing all 796 articles
Browse latest View live

Kunstenaar en skepping: Sheila Cussons en die problematiek van die kunstenaar

$
0
0

Kunstenaar en skepping: Sheila Cussons en die problematiek van die kunstenaar

Carine Janse van Rensburg, onafhanklike navorser

LitNet Akademies Jaargang 17(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Die metateks is by uitstek die teks waarin die digter-spreker as kunstenaar hom met sy worsteling met sy kunstenaarskap, die kreatiewe proses en sy skepping bemoei. In dié bemoeienis is die digter-spreker baie bewus daarvan dat sy skepping nooit die werklikheid kan weerspieël nie. Die leser is ook van meet af aan daarvan bewus dat hy besig is met kuns en nie met die werklikheid nie. Grové (1966:200) maak ’n belangrike uitspraak aangaande die metagedig (sonder dat hy dié term gebruik), naamlik dat dit die gedig is waarin die digter en sy skeppingsbedryf nie alleen onderwerp van die gedig is nie, maar ook voorwerp.

Die poësie van Cussons gee meermale uiting aan haar intense begeerte om die wonder van die skepping, die Goddelike, die mistieke ervaring vas te vang. Trouens, ’n mens kom nooit heeltemal weg van die mistieke of die kontemplatiewe by Cussons se metapoësie nie. Só word haar bemoeienis met die woord enersyds ’n intense klag oor die ontoereikendheid van en ’n diepe bedroefdheid oor haar eie onvolkomenheid en gebrekkige verwoordingsvermoë. Soms openbaar sy ’n vaste vertroue in die vermoë van taal, gegrond op die besef dat sy maar net sal moet klaarkom met die beperkte en beperkende woordeskat, want taal is die menslikste van wat ons menslik het (Die Somerjood, 1980:8). Andersyds is daar in haar poësie die heerlike oomblikke wanneer sy soms die “regte woord” vind en tóg die “heuning” in die “menssweet” (Die Somerjood, 1980:8) ontdek. Dan weet sy God laat Hom wel nog in klein oomblikke ken, al is taal nóg so menslik.

Trefwoorde: metapoësie; metateks; postmodernisme; toereikendheid versus ontoereikendheid van die woord

 

Abstract

Artist and creation: Sheila Cussons and the struggles of the artist

This article explores the difficulties that Sheila Cussons, in her role as artist, encounters in artistic creation. These problems belong to the field of the metatext; for the purpose of this article, specifically the metapoem.

The metapoem is eminently the poem in which the poet-speaker, as artist, engages with his artistry, the creative process and his artistic creation – the poem.

Cussons’ poetry, more often than not, expresses her intense desire to capture the wonder of artistic creation, the Divine and the mystical experience. However, art as a reproduction of reality is problematic, and the poet-speaker is very conscious of the fact that her artistic creation can never satisfactorily reflect reality.

This view is also fundamental to postmodernism, which is characterised by a growing doubt or distrust in the abilities of language – as a vehicle of human thought – to fathom or explain reality. Cussons’ endeavour with the poetic word, however, results in an intense lamentation on the inadequacy of her words, and a feeling of deep sorrow about her lacking abilities of expression. Yet, unlike postmodernism, Cussons’ poems do not flaunt their status as artefacts. They rather give expression to her experience of general human inadequacy. Therefore, the inadequacy of language as a vehicle of her thoughts is essentially a reflection of her own human inadequacies and shortcomings. Furthermore, she lacks the cynicism and scepticism towards the abilities of language that is intrinsic to postmodernism. From her perspective, her distress about her own incomplete insight and abilities of expression is a result of the Fall and man’s subsequent state of being “plundered” (Die Somerjood, 1980:12).

In “Little Ode on White” (Die Somerjood, 1980:22), the poet-speaker knows that her insight and portrayal are incomplete and will remain incomplete. Her characters are “redundant” and therefore senseless because everything has indeed been realised, grasped, and is fully known to God. However, she finds consolation in the fact that Christ’s body is “legion” and “subtle”. He is boundless unboundedness and in his immeasurability too comprehensive for words (Die sagte sprong, 1979:53). Even so, she knows that finding the right word will suddenly make sense of all things puzzling and intricate. Therefore, she has an intense desire for words, as suggested in “Aquatic” (Die Somerjood, 1980:26). She confirms that there is a sort of comprehension that precedes words and language, and her search is for the word that can give expression to this insight. In this endeavour, the poet-speaker contemplates whether it is man’s destiny to know Beauty at all. To violate the Secret, to taste the fruit of the Tree of Knowledge of Good and Evil, might even be dangerous. It might awaken the beautiful snake, Kundalini, which could be catastrophic to the poet: “[...] no one should experiment with or try to rouse it without explicit instructions from a guru, as the dangers connected with its awakening are very real and very terrible” (Scholtz 1991:170). Therefore, it is safer to look with the eyes of the ape, in other words devoid of human reason (Die woedende brood, 1981:31).

On the other hand, and despite the continuous struggle with the inadequacy of the human cognition, Cussons’ poet-speaker sometimes experiences those joyful moments when she finds the “right word” and discovers the “honey” in the “human sweat” (Die Somerjood, 1980:8). The delight that the poet-speaker experiences at the wonder of the poetic word is equated to the ecstasy she felt when, as a toddler, she experienced a storm (Die swart kombuis, 1978:26). In closing, the poet-speaker describes her words as “shiny”, as if to say, on looking at her artistic creation, she felt “it was good”. At times like these, the poet-speaker experiences the world as a carnival and her words work in her like wine (Die woedende brood; 1981:6). This is the “Dionysian world of ‘intoxication’, of ‘excitement’ and ecstasy, in which there is no calm and no clarity, but a strange sense of power and a narcotic influence which makes a man forget himself and identify himself with nature or the human crowd in its less rational and more instinctive moods” (Bowra 1949:5).

Occasionally, the poet-speaker also experiences the “right word” as coming from “nowhere” as if supernaturally falling into place, but in conclusion, she recognises the source of the “right word” as the Spirit. It is, in fact, God writing through her.

At times, Cussons’ poet-speaker realises the potential of words. She experiences that “[t]hose small articulated sounds, that seem so simple and so definite, turn out, the more one examines them, to be the receptacles of subtle mystery and the dispensers of unanticipated power” (Rylands 1928:xii). This realisation gives birth to conceit in the poem with the title “A conceit” (Die knetterende woord, 1990:20). She grasps the dynamic, disseminating power of the poetic word, and knows “[a] great artist can invest a common word with a miraculous significance – can suddenly turn a halfpenny into a five-pound note” (Rylands 1928:xv).

Her awe of words culminates in “Loose” (Verwikkelde lyn, 1978:29) and she applauds the glorious “inebriation of twirling words”, bringing about the sensation of a free fall, the epitome of complete freedom – not being bound to the confining influence of the earth or the earthly.

The absolute separation of language and reality or the reduction of language to an arbitrary sign system is not emblematic of Cussons’ poetry. Her struggle with the inadequacy of language as a vehicle of her thoughts is essentially a reflection of her own human inadequacy. Her mourning is not for the lacking abilities of language but for her own incomplete insight and inadequate ability to express the wonder of artistic creation, the Divine and the mystical experience.

Keywords: adequacy versus inadequacy of the word; metapoetry; metatext; postmodernism

 

1. Die kunstenaar as nabootser: bemoeienis met taal

Die problematiek van kuns as reproduksie is ’n gesteldheid waarmee veral die metakuns hom bemoei. Die uitgangspunt van die metafiksionele teks is dat kuns nooit die werklikheid kán weerspieël nie. Die metafiksionele skrywer probeer dit daarom nooit voorgee nie. Hy poog nie doelbewus om ’n “suspension of disbelief” te skep nie. Die leser word stelselmatig deeglik bewus van die fiksionaliteit van dít waarmee hy in die leeshandeling gekonfronteer word. Trouens, volgens Alter (1975:10) “flaunt” die kunswerk sy status as artefak. Hy vestig dus doelbewus die aandag daarop.

Metapoësie verskil wat hierdie kwessie betref in verskeie opsigte van metafiksie. Wilson (1970:50–1) sê:

The basic difference between poetry and prose is not so much a matter of form as of the content. Prose is always in a hurry to get somewhere; it is either telling a story or pursuing an argument. When you read a poem [...] you automatically slow your mind down to a walk knowing that it can only produce its effect if the mind is relaxed.

Eerstens is daar in metapoësie nie ’n stelselmatige blootlegging van fiksionaliteit nie, bloot omdat poësie wesenlik nie fiksie is, soos die term konvensioneel gebruik word nie, maar ook omdat poësie (met die uitsondering van gedigte wat oor meer as een bladsy strek) tipografies so aangebied word dat die leser dit in sy geheel kan sien. Daar is dus nie die geleentheid om enigiets stelselmatig, dit wil sê oor die verloop van baie bladsye, bloot te lê soos in die prosa gebeur nie. Die leser is van meet af aan daarvan bewus dat die “werklikheid” waarmee hy in die gedig gekonfronteer word ’n werklikheid ontdaan van sy bekendheid is, ’n “vervreemde” werklikheid, soos die Russiese Formaliste dit beskryf het. Die “vreemdheid” van die werklikheid, soos dit in die gedig weergegee word, het te doen met die feit dat

[...] poets try to express experience not as the mind orders and arranges it in retrospect but as it is really felt with all its contradictions and ambiguities [...] it is concerned not with the reasoning powers of man but with something else, with the whole range of human consciousness when it is at work at a certain intensity (Bowra 1949:24–5).

Tweedens vestig die digter-spreker in Cussons se metapoësie nie die aandag op die fiksionaliteit van die teks nie. Inteendeel, daar is by die digter-spreker enersyds ’n intense klag oor die ontoereikendheid van die digterlike woord. Daar is geen illusies oor die eie gebrekkige perspektief nie. Die digter-spreker wéét sy is “[v]an onwis meer omgeef as wis” (Die knetterende woord, 1980:18). Ook is die doel van die erkenning van eie onmag nie om die enigsins verwikkelde verhouding tussen kunswerk en werklikheid te ondersoek nie. Veel eerder is dit die dilemma wat Waugh (1984:3) noem: die intense begeerte om die wonder van die skepping in die woord vas te vang en telkens die besef dat dié skepping, die immer-dinamiese, “verbreidende” skepping, hom nie laat vasvat in woord, of selfs beeld, nie. Sy weet dat die digter-spreker se woord van ’n laer rang is as dié van God. Wanneer God praat, weet sy “hoe sonder nate is sy woord” (Die swart kombuis, 1978:82). Hy ís immers die “Onveranderlike, Oneindigende, / Onbeginnende Woord deur Wie” sy, “’n klein / verrukte vuilerige kommatjie flits” (Die Somerjood, 1980:1). Die digter-spreker is telkens bewus van die “gebrokenheid en naaktheid” (Grové 1966:192) van woorde.

Dit is op hierdie stadium nodig om baie kortliks by die postmodernisme stil te staan aangesien ’n tiperende kenmerk van ’n postmodernistiese kunswerk juis is om die aandag te vestig op sy eie fiktiewe aard en daardeur die kyker/leser/hoorder bewus te maak van die fiktiewe aard van dít wat die werklikheid genoem word. Postmodernistiese metatekste roep trouens pertinent vrae op oor die wese van literêre tekste in hulle verhouding tot die werklikheid en suggereer dat ons die werklikheid met behulp van taal konstrueer.

Omdat postmodernisme so ’n omvattende begrip is met so ’n versplinterde karakter, is dit moeilik om binne die bestek van enkele paragrawe regtig tot die kern daarvan deur te dring. Die “veiligste” benadering sou wees om te wys op ’n uitspraak wat Ihab Hassan (Bertens en D’haen 1988:28) in 1988 gemaak het, naamlik dat die postmodernisme as ’n allesomvattende nuwe houding in die kunste gesien moet word. Dít is onder andere ’n houding van self-bewustheid wat verband hou met die manier waarop die menslike ervaring in die kunswerk gekonstrueer word.

Hoe dit dan ook sy, postmodernisme word wesenlik gekenmerk deur die radikale twyfel aan die vermoë van die mens om die werklikheid te ken en ’n ewe sterk twyfel aan die vermoë van taal om die werklikheid te beskryf. Hierdie twyfel word dan as kenmerkend van hierdie onvermoë gesien.

Bertens en D’haen (1988:11) wil dit hê dat die implisiete insig wat in elke postmodernistiese metateks verskuil is, die insig is dat die werklikheid altyd binne ’n deur-taal-bepaalde perspektief waargeneem word. Die belangrikste uitspraak wat Bertens en D’haen (1988:8–12) dan vir die doel van hierdie artikel oor die postmodernisme maak, is dat dit in die eerste plek nie ’n definiërende begrip is nie, maar ’n heuristiese instrument. Met ander woorde, die hantering van die begrip postmodernisme maak, met die inhoud wat bogenoemde twee skrywers daaraan gee, ’n bepaalde invalshoek moontlik. Dit verskaf ’n interpretatiewe kader wat die leser in staat stel om dinge oor ’n literêre teks te sê wat binne ’n ander interpretatiewe kader nie gesê sou kon word nie. Anders gestel: die postmodernistiese invalshoek stel as’t ware vrae aan ’n literêre werk wat binne ’n ander kader nie gestel sou kon word nie. Dit is dus eerstens ’n interpretatiewe strategie wat buite rekening laat of die literêre werk wat bespreek word in ’n objektiewe sin postmodernisties is, al dan nie.

Indien hierdie standpunt tot ’n uiterste deurgevoer word, sal dit moontlik wees om alle tekste, vanaf die Bybel en die Odusseia, binne ’n postmodernistiese kader te benader. My doel met hierdie postmodernistiese omweg is om te bewys dat ek, wanneer ek my nie verbind tot ’n postmodernistiese strategie by die lees van Sheila Cussons se gedigte nie, my op veilige grond bevind. Hutcheon (1984:xi) praat van “‘poetics’ of what we seem determined to call postmodernism”, maar sy sê later uitdruklik dat sy met opset dié etiket vermy om verskeie redes, waarvan die belangrikste is dat die term [begrip] “seems to [...] be a very limiting label for such a broad contemporary phenomenon as metafiction” (1984:2).

Ook Bertens en D’haen (1988:105) stel dit duidelik dat dit nie so is dat alle metafiksie noodsaaklikerwys postmodernisties hoef te wees nie. Hulle motivering vir hierdie uitspraak is insiggewend en verdien aandag. Uit hulle redenasie (1988:102–5) word dit duidelik dat dit vir hulle vanself spreek dat die opkoms van metafiksie saamhang met die opkoms van postmodernisme in dié sin dat beide onlosmaaklik verbonde is aan die gevoel dat die verhouding tussen literatuur en werklikheid problematies is.

Die problematisering (of selfs ontkenning) van die verhouding tussen taal en werklikheid en dus ook tussen literatuur en werklikheid wat in die postmodernisme aangetref word, het gelei tot ’n groot aantal romans waarin die verhouding op metafiksionele wyse behandel word. Die problematiese aspek van die verhouding word in elk geval in so ’n metafiksionele roman, of ander metateks, duidelik getematiseer sodat die aard en funksie van die skryfproses self aan die orde kom. Dit is egter moontlik dat in ’n metateks tot die gevolgtrekking gekom kan word dat die “werklikheid” voldoende weergegee is, soos wat inderdaad gebeur by Cussons se digter-spreker wanneer sy soms die “regte woord” vind (Die swart kombuis, 1978:60). So ’n metateks sou uiteraard nie postmodernisties wees nie en sou waarskynlik nie só benader kon word nie.

Alhoewel ’n postmodernistiese strategie dan by die lees van Sheila Cussons se gedigte nie ter sake sou wees nie, betrek die uitspraak van Grové (1966:192) – dat haar gedigte telkens eindig met ’n besef van die “gebrokenheid en naaktheid” van haar eie woorde – dat Cussons se digter-spreker telkemale stuit voor die onmag van haar woorde om iets van die skepping weer te gee. Dit is teen wil en dank die kwessie van taal versus werklikheid, wesenlik ’n postmodernistiese kwessie.

Allen Thiher, in sy Words in reflection (soos na verwys in Bertens en D’haen 1988:42–9), plaas die postmodernisme binne die kader van die 20ste-eeuse denke oor die verskynsel taal. Vir Thiher word denke gekenmerk deur steeds groter twyfel oor die effektiwiteit en moontlikhede van taal. Terwyl taal in die 19de eeu nog gesien is as deursigtige medium, ’n soort raam waardeur ’n mens na die werklikheid kon kyk, wat die werklike wêreld kon weergee, ontleed en verklaar, staan die 20ste-eeuse denke oor taal in die teken van steeds toenemende onsekerheid. Dit het sy oorsprong in die werk van Nietzsche, wat radikaal twyfel aan die vermoë van taal as voertuig van menslike denke om die werklikheid te deurgrond. Menslike denke kan die werklikheid nie verklaar nie en daarom taal ook nie. (Gelukkig is “the business of poetry [...] not to simplify or to explain, but to present” (Bowra 1949:24).)

Taal, sê Thiher, word dus steeds meer gesien as ’n arbitrêre tekensisteem wat los staan van die werklikheid tot in die dekonstruksionisme van Derrida waar die skeiding tussen taal en werklikheid absoluut word. In Thiher se postmodernisme kan taal die werklikheid nie bereik nie, of bestaan daar baie sterk twyfel oor die moontlikheid van taal om dit te doen. Elke moontlike verhouding tussen taal en werklikheid word as buitengewoon problematies gesien en, ten spyte van pogings daartoe, slaag taal volgens hom nooit daarin om die kloof na die werklikheid te oorbrug nie. Maar die pogings bly en “this desire for precision is all the greater in an age which knows what confusion is and hopes to master its troubles by translating them into ‘rigorously sincere art’” (Bowra 1949:23). Sulke pogings eindig egter dikwels in die wanhopige of frustrerende erkenning van mislukking. Dit is hierdie frustrasie wat keer op keer in metafiksie tot tema gemaak word. “Metafictional texts often take as a theme the frustration caused by attempting to relate their linguistic condition to the world outside” (Waugh 1984:53).

Thiher se opvatting hou in dat die werklikheid wat ons dink ons ken, niks meer is as ’n “talige” werklikheid nie, dit wil sê ’n werklikheid gekonseptualiseer deur die “talige” menslike bewussyn. Die werklikheid wat sogenaamd “buite die taal” aanwesig is, kan nie tot uitdrukking gebring word nie, kan nie geformuleer word nie. Wanneer dit wel in taal omskep word, is dit nie meer wat dit was nie: dit het taal geword. In die woorde van Wittgenstein, aangehaal deur Dokter Copernicus in John Banville se roman met dieselfde titel (soos na verwys in Hutcheon 1984:xiv): “We only think those thoughts that we have the words to express.” Die totale skeiding tussen taal en werklikheid soos wat Thiher dit propageer, lei binne die postmodernisme noodwendig tot tekste wat uitsluitlik na hulself verwys, metafiksioneel is.

In Cussons se gedigte bestaan sodanige skeiding tussen taal en werklikheid nie. Wanneer ’n gedig binne haar oeuvre na homself verwys, is dit meestal om die rede wat Vestdijk (1956:215) noem: die metagedig (wat hy die “funksionele” gedig noem) sien hy onder andere as ’n uitdrukking van algemeen menslike ontoereikendheid.

Dit is dan in die laaste instansie waarmee Cussons se digter-spreker worstel in die taal: die ontoereikendheid van taal as “voertuig van haar denke” is in wese ’n weerspieëling van eie menslike ontoereikendheid. As sodanig noodsaak Cussons se gedigte nie ’n postmodernistiese leesstrategie nie. Nooit is daar by haar, selfs maar in die geringste mate, ’n houding van sinisme of selfs skeptisisme oor die vermoëns van taal nie; slegs maar ’n diepe bedroefdheid oor haar eie onvolkome insig en verwoordingsvermoë, wat ’n gevolg is van die sondeval en die mens se gevolglike “verplunderdheid” (Die Somerjood, 1980:12). En dan weer, andersins, ’n vaste vertroue in die vermoë van taal, gegrond op die besef dat sy maar net sal moet klaarkom met die beperkte en beperkende woordeskat, want taal is die menslikste van wat ons menslik het (Die Somerjood, 1980:8):

1      Taal: die menslikste van wat ons
2      menslik het, jy wat na menigte ruik:
3      in jou menssweet op my bolip
4      proe ek soms heuning:
5      Hy sal wil met ons wat Hy wil
6      en verligting lag soos ’n bruin spanjool.
7      Daar is geen keer aan die noösfeer.

Taal is die kollektiewe besit van die “menigte”, “sweterig” van baie gebruik. Tog is die digter-spreker in staat om, paradoksaal, die Goddelike in die gewoon-menslike te ervaar: “heuning” in die “menssweet”. En die oorweldigende emosie by hierdie ontdekking is een van verligting, dat God Hom tog in en deur taal (of miskien ten spyte van taal) deur die “bruin spanjool”, die aardmens met sy beperkte vermoëns, laat ken. Want al is die mens noëties beperk, is die noösfeer onbeperk. Die Supplement to the English Oxford Dictionary verklaar noösfeer as die naam wat deur Teilhard de Chardin in sy teorie oor evolusie gegee is aan “the state or sphere characterized by the emergence of consciousness and mind which follows the stage of the establishment of human life”. Volgens De Chardin (Van der Leeuwen 2010) het die krag van evolusie drie geboortes tot gevolg gehad: die “kosmogenese” wat verwys na die ontstaan van die heelal, die “biogenese” wat die mutasie van lewelose tot lewende stof behels en die “noögenese” wat die mutasie na selfbewussyn is. Deur die drie geboortes het die mens uitgestyg bo die vlak van die dier. Die mens is ’n denkende wese wat kan reflekteer en só in staat is om bo die kosmos en homself uit te styg. Die “noö” (uit Grieks “nous”) verwys na die mens se ken- en denkvermoë. Aan die mens se bewus-syn word geen beperking gestel nie.

Cussons se bemoeienis met taal word voortgesit en bereik ’n hoogtepunt in haar laaste bundel, Die knetterende woord (1990). Die besef dat taal al is wat ons het, kom in die gedig “Selfs ...” tot uitdrukking. Enersyds is daar die angsvallige, en andersyds die amper stoutmoedige, opdrag aan taal:

1      Taal, jy moet alles kan aankeer,
2      die tergendste dinge van die gees,
3      tot deur sy lus die vangriem kan adder
4      om selfs die skof van die melkwit Bees.

Cussons se beskouing van die taal as instrument van haar digterskap word hier op pregnante wyse tot uitdrukking gebring. Taal moet “alles kan aankeer”.

Die digvorm hier is dié van die Persiese kwatryn, met ’n klein afwyking in die rympatroon – die eerste twee versreëls is naamlik in halfrym geskryf. Daardeur word die verband tussen reëls 2 en 4 duideliker gelê: “die melkwit Bees” is by uitstek dié “tergendste ding(e) van die gees”. Die simboliek van die bees word hier in sy totaliteit ontgin: “The basic dilemma lies between the interpretation of the bull as a symbol of the earth, of the mother [...]; and the view that it represents heaven and the father (Cirlot 1981:33).

Taal word metafories gelykgestel aan ’n persoon wat met ’n vangriem werk; die “tergendste dinge van die gees” by implikasie dan die baldadig-ontwykende bees (simbool van die aardse realiteit wat verwoord moet word) wat aangekeer moet word. In die derde reël is die suggestie sterk dat dié poging van taal nie mag ophou voordat ook die Groot “Bees”, God, verwoord is nie.

Die voorafgaande herinner aan Van Wyk Louw se woorde in “Miskien moet jy liewer klaarmaak” (Tristia). Die digter-spreker, as verwoorder van die werklikheid, spreek naamlik die hoop uit:

                     dat die laaste, die slot-nosie
’n vangriem gaan gooi om ’n stuk van die wêreld
en teminste dít, dié, saam met die ander
tot een moeg-gewurgde stuk beestelikheid
gaan dwing om te lê.
(my kursivering)

’n Mens kan ook nie verhelp om die parallel te wil trek met Koki se siening van taal nie, wanneer hy in sy toespraak sy volk waarsku teen Raka se vernietigende invloed op hulle kosbare kultuurbesit. Hy beskryf taal as hulle “fyn, fyn net / van die woord, waarmee (hulle) blink en vet / visse uit baie waters haal” (Van Wyk Louw 1942:16). Die “net” wat die “vis” uit die water haal, word in Cussons se gedig die “vangriem” met “lus” wat om die skof van die “melkwit Bees” “adder”. “[N]et” en “vangriem” is in beide gevalle die woord wat die Goddelike verwoord. Die vis is immers tradisioneel simbool van Christus, en die “Bees”, onder andere simbool van mag (Cirlot 1981:34), word deur die hooflettergebruik hier ook God – die mees ontwykende “ding” wat om ver-woording roep.

Die gebruik van “adder” is interessant. Daardeur word die woord met sy betekenisveld (die “vangriem” met sy “lus”) nie slegs iets lewends nie, maar in sy simboliese waarde ook uitdrukking van wysheid en subtiliteit (Evans 1990:1000), in staat om die fyn nuanses van die Goddelike te verwoord. Meer nog: die beeld van die “lus” roep in herinnering die slang wat sy stert byt, Kundalini, “die pragtige slang van die skeppende energie” (Gilfillan 1984:143). Walker beweer dat dié mitologiese figuur die naam is van “a potent occult energy symbolized by a serpent having three and a half coils, and sleeping with its tail in its mouth [...]” (Scholtz 1991:170).

In haar bemoeienis met taal word Cussons, as digter, dan telkens gekonfronteer met dié twee uiterstes: enersyds die “vangriem” wat kan “adder / om selfs die skof van die melkwit Bees”; andersyds die “lus” wat sy prooi mis. Soms proe sy met verligting die “heuning”, ander kere slegs die “menssweet”.

 

2. Die ontoereikendheid van die digterlike woord

Cussons se bedroefdheid oor haar eie onvolkome insig en verwoordingsvermoë soos onder 1 bespreek, hang saam met die insig dat die digterlike woord ontoereikend is. 

Die digter-spreker se metapoëtiese klag in haar besef dat die digkuns die innerlike nooit volkome kan vasvang nie, is intens in “Klein ode op wit” (Die Somerjood, 1980:22):

1      Ervare wit soos meel,
2      vermoedende wit soos maagdom,
3      en waarom nie?
4      Ellende is grys want hopeloos
5      en vreugde is paroksisme,
6      ’n vlaag te vinnig vir kleur.

7      Wit dan, of die bleek
8      van wees gesyfer deur
9      die aarde en dit is mis en
10    minerale en vag en been en bloed.
11    O te veel bloed, die aarde
12    is te vol bloed, daar is bloed
13    in al ons wit, ou gelerige bloed.

14    Oorbodig die lettertjies
15    op dié papier se afgedempte
16    wit waar alles reeds besef is
17    en – armoedige
18    mildheid – vergewe is
19    tot die been.

20    Dit kom so sag asof dit
21    vir ons bang is, maar eindelik
22    sal dit ontsaglik kom, ’n laaste
23    ruisende bevrydingsleër,
24    en al die dodes sal swerm en roep
25    en alles sal eindig en begin
26    en juiging wees en sneeu.

Die titel van die gedig kan op meer as een wyse vertolk word. Die voorsetsel “op” in die titel kan eerstens as “bo-op” gelees word. Dan verwys “wit” na die wit papier waarop die digter-spreker haar “klein ode” skryf, soos bevestig in strofe 3 waar na die “afgedempte / wit” van die papier verwys word.

Maar “op” kan ook vertolk word as “oor” of “wat handel oor”. “Wit” is hiervolgens dan die onderwerp van die “klein ode”– ’n verhewe onderwerp, want ’n ode is immers ’n lofuiting. Die titel skep dus die verwagting dat die goeie hoedanighede van “wit” besing sal word (weliswaar op die wit van die papier). Dit bereik ’n hoogtepunt in die slotreël waar “wit” vervang word met “sneeu”, by implikasie die intensiewe vorm van “wit”, en simbolies van suiwerheid en begrip wat volledig is.

In strofe 1 word “ervare wit” vergelyk met (wit) meel. Die “wit” is dus ’n seker, beproefde, betroubare wit. In teenstelling hiermee is “wit” in reël 2 “vermoedend” en word vergelyk met “maagdom”. Maagdelikheid kan vermoed, maar nie seker bepaal word nie. ’n Vermoede is nie noodwendig ’n waarheid nie. Reël 1 en reël 2 is dus kontrasterend: sekerheid teenoor onsekerheid. 

“Wit” betrek meer as gewoon die “wit” van die papier. Die digter-spreker gebruik immers beskrywende woorde wat met die mens of menslikheid geassosieer word: “ervare”, “vermoedend”, “bleek”. In strofe 2 word “wit dan” gelykgestel aan “die bleek van wees”, wat suggereer dat “wit” na die menslike bestaan verwys. Die mensheid in sy “bleek” bestaan word “gesyfer deur die aarde” totdat “wit” vir die digter-spreker ’n onbevredigende skakering van wit aanneem – “wit” waardeur “ou, gelerige bloed” vloei, tekenend van die onvolmaakte menslike bestaan.

Die “afgedempte wit” van die papier in strofe 3 sou kon dui op ’n besef dat ook die geskrif waarin die “besef” van hierdie toestand weergegee word, sy beperktheid het. Terwyl die digter-spreker skryf, wéét sy sy “skryf ná in stof” (1962:12). Haar begrip en weergawe is onvolmaak en sal onvolmaak bly. Haar “lettertjies” is “oorbodig” en daarom sinloos. Alles is immers “reeds besef”, volledig bekend aan God.

Vir die mens kom hierdie volledige begrip egter eers aan die einde van tyd. Dit is die “eendag” (“eindelik”) wanneer die mens in bevryding alles sal sien “soos dit werklik is” en “ten volle” sal ken soos hy ten volle geken is (1 Korintiërs 13). Hierdie begrip bring die bevryding – ’n volgende stap in die transformasie van menslike “wees”.

Die metapoëtiese implikasie is dat geen wit nog dié finale woord ontvang het nie. Maar gelukkig is wit, anders as grys, uitdrukking van hoop (Evans 1990:256) en ook van tydloosheid (Cirlot 1981:58). Daarom kán die “eendag” dié volmaakte woord wat uitdrukking is van volmaakte begrip, ontvang. Tot dan kan dit die waarheid slegs “vermoed”. Wat Cirlot (1981:58) sê oor die simboliek van wit, onderstreep dié gedagte: “[...] when it is regarded as purified yellow, [...] comes to signify intuition in general, and, in its affirmative and spiritual aspect, intuition of the Beyond” (my kursivering).

Die metapoëtiese gekweldheid van die digter-spreker in “’n Sny brood” (Die sagte sprong, 1979:53) is nogmaals die versugting om die vind van die doeltreffende woord. Wat Bowra (1949:23) amper vyf dekades gelede beweer het, geld vandag nog, en veral ten opsigte van dié betrokke gedig: “The desire to express exactly is extremely important to modern poets, and they see what it demands of them. So far from being careless or reckless in their art, they have an ideal of exactness and precision.”

1      Hóé om die soet wanneer
2      brood en spoeg mekaar herken
3      presies te definieer:
4      U liggaam is legio en subtiel –
5      maar al my denkende
6      smaaktepels weet: as net die woord
7      gevind kan word, maak elke
8      duister en verwikkelde
9      ding meteens verbasend sin.

In hierdie gedig word die soet smaak van brood reeds deur die gebruik van “herken” op ’n ander vlak geplaas. “[H]erken” is naamlik ’n menslike handeling wat beteken “om weer te ken”, “te eien” of “te identifiseer” (HAT). Dit is dus reeds in die tweede reël duidelik dat ’n mens hier nie te make het met die gewone handeling van proe nie – “soet” verwys na ’n sensasie wat nie bloot betrekking het op die smaak van brood nie, maar op die kwaliteit van die “ontmoeting” tussen “brood en spoeg”. Dié feit word bevestig deur die dubbelpunt aan die einde van die derde versreël, gevolg deur die verwysing na die liggaam van Christus.

“[B]rood” en “spoeg” word dus retrospektief getransformeer tot onderskeidelik die liggaam van Christus en die mens. Dit gaan wesenlik om die digter-spreker se her-kenning van Christus. Die eenwording van “brood” met “spoeg” is ’n mistieke ervaring.

Die probleem wat die digter-spreker in die eerste drie reëls stel, en waarop daar geen antwoord in die res van die gedig verstrek word nie, is om die herkenning te “definieer”; dit noukeurig te omskryf. Die gebrek aan die toereikende woord, dié woord wat die onsegbare kan sê, is wesenlik ’n metapoëtiese kwessie. Ook Eliot beklemtoon die behoefte aan die presiese woord: “The common word exact without vulgarity, / The formal word precise but not pedantic, / The complete consort dancing together” (Bowra 1949:23).

In essensie spreek “’n Sny brood” (1979:53) oor die onverwoordbaarheid van die mistieke ervaring. Dit sal toenemend duidelik word dat ’n mens by Cussons se metapoësie nooit heeltemal wegkom van die mistieke of die kontemplatiewe nie.

Die probleem in “’n Sny brood” (1979:53) bly onoplosbaar omrede daarvan dat Christus se liggaam “legio” is en “subtiel”. Die gebruik van “legio” verwys na die grenslose onbegrensdheid van God. Hy is in sy onmeetlikheid te omvangryk vir woorde. Dit is sy ruimheid van gees en alwetendheid wat aangedui word deur die gebruik van “subtiel”. God is nie enkelvoudig nie en daarom ook nie eenvoudig of ongekompliseerd nie. Daarom is woorde nie subtiel genoeg om sy geskakeerdheid te omskryf nie. Hy is van karakter uit ondefinieerbaar. Tog skryf sy in “Woord” (Die swart kombuis) dat Hy “geen dele” het nie, “ondeelbaar en eenvoud” is. Sy onverwoordbaarheid is waarskynlik geleë in die digter-spreker se paradoksale ervaring van sy Syn.

Desnieteenstaande “weet” die digter-spreker dat die vind van die regte woord “sin” kan maak van “elke / duister en tergende en verwikkelde / ding”. Sy weet dit met haar “denkende smaaktepels”. Die gebruik van “denkende” as beskrywende woord wys duidelik dat sy God nie slegs sintuiglik met haar “smaaktepels” beleef nie, maar ook met haar intellek: kontemplatief en mediterend.

Die noëtiese aard van haar ervaring openbaar aan haar die metapoëtiese insig: die woord is ’n voorvereiste vir volle begrip. Die woord gaan hier nie die ervaring vooraf nie, maar die ervaring die woord. Dit is ’n ontkenning van die Wittgenstein-standpunt dat die mens slegs dié gedagtes dink waarvoor hy die woorde het. Die digter-spreker dui onteenseglik aan dat daar by haar blyke is van ’n begrip wat wag om in woorde gestel te word sodat dit volledigheid kan kry. Die regte woord, die toereikende woord beskik amper oor ’n magiese krag. Dit kan “meteens”, onmiddellik, die “sin” maak waarna die digter-spreker soek. Ook Eliot verwoord iets van hierdie gedagte in sy essay “The three voices of poetry” (1998:143):

He [the poet] has something germinating in him for which he must find words; but he cannot know what words he wants until he has found the words; he cannot identify this embryo until it has been transformed into an arrangement of the right words in the right order.

Volgens Gilfillan (1984:109) kan die woord waarna die digter-spreker soek, soos die “brood en spoeg”, ook op ’n ander vlak gelees word. God is immers die Woord wat, indien Hy gevind word, “sin” gee aan die bestaan, voed met die “brood van die lewe”. Hy is dan die digter-spreker se daaglikse “sny brood”.

Op metapoëtiese vlak bly die digterlike woord waarna hier gesoek word, egter dié een wat die “soet” van Christus se liggaam in die mistieke belewenis presies kan definieer. Maar sy word genoop om uiteindelik te volstaan met die beskrywing van die ervaring as “soet”. Tog weet sy met al haar “denkende smaaktepels”, omdat sy dit reeds ervaar het, dat dit moontlik is om die ryke geskakeerdheid daarvan só te verwoord dat “elke / duister en verwikkelde / ding” “meteens verbasend sin” maak.

Daarom ervaar sy die akute behoefte aan woorde in “Akwaties” (Die Somerjood, 1980:26), ’n behoefte wat sy ontstaan het in haar onvergenoegdheid met haar bestaande woorde:

1      Ek wil woorde hê, subtieler
2      as woorde, subtiel soos
3      ’n blik of fyn gebaar,
4      iets vinnigs en onverwags
5      soos ’n nat paddatjie
6      op ’n boek. Hoe geniaal kan
7      ’n oog nie kyk, ’n hand bedui,
8      hoe dadelik spring begrip.
9      O borrels, blink borrels, ondertaals.

Die digter-spreker bevestig in hierdie gedig ook dat daar ’n soort begrip is wat woorde, taal, voorafgaan en haar soeke is die soeke na die woord wat dié begrip kan verwoord.

Die titel van die gedig het as stam die Latynse woord aqua wat “water” beteken. “Akwaties” sou ’n mens dus kon vertaal as “dít wat betrekking het op water”. En dít wat in die gedig betrekking het op water, is die begripwêreld, die “denkwêreld van die voortaal” (Gilfillan 1984:126). Die volgende uitspraak van Cirlot (1981:366) aangaande die simboliek van water is besonder toepaslik hier:

Whether we take water as a symbol of the collective or of the personal unconscious [...] it is obvious that this symbolism is an expression of the vital potential of the psyche, of the struggles of the psychic depths to find a way of formulating a clear message comprehensible to the consciousness.

Die versoeking is sterk om ook hier die parallel te trek met Koki se “blink en vet visse / uit baie waters”. Sheila Cussons vervang die vis met ’n “nat paddatjie” en bly daarmee binne die simboliek van die water. Die padda met sy kenmerkende eienskap van amfibies-wees, verteenwoordig volgens Cirlot (1981:114) “the transition from the Element of earth to that of water, and vice versa” en verder word hy geassosieer met “the idea of creation”. Die gesogte woord, die kreatiewe woord, die woord wat die “clear message” omvat, wat die vervulling van die potensiaal van die psige is, is hier metafories gesproke die “paddatjie” – “nat”, blink van die begrip wat hy met hom saamdra. Hy dra nog die “sprankeling van die onderwaterwêreld aan sy lyf” (Gilfillan 1984:126).

Die “paddatjie”, as woord wat “subtieler [is] / as woorde”, word vergelyk met “’n blik of ’n fyn gebaar”. Die digter-spreker stel haar bewondering vir die genialiteit van so ’n blik of gebaar onomwonde. Dit is naamlik die blik of gebaar wat “begrip” laat “spring”, juis omdat dit weens die subtiliteit daarvan in staat is om fyner nuanses as woorde weer te gee.

Die versugting na woorde in die eerste versreëls word in die laaste versreël ’n sug van tevredenheid: die subtiele woorde, blikke, gebare bestáán. Is elke “blink borrel” dan nie ’n potensiële paddatjie wat “vinnig”, “onverwags”, kan “spring” om “sin” te maak van elke “tergende en verwikkelende ding” nie? Die padda, as amfibiese dier, beweeg immers gemaklik tussen water en land: begripwêreld en taalwêreld.

Dit is asof die digter-spreker in die slotreël vrede maak met die ontoereikendheid van haar kenvermoë, asof sy haar eie beperkte vermoëns aanvaar. Dit lyk na ’n berusting in die wete dat daardie begripwêreld bestáán, onafhanklik van taal. Sy is vir die oomblik bereid om daarmee te volstaan. Die gevaar bly immers dat die kunstenaar in sy kompulsiewe gedrewenheid na die altyd beter woord, die risiko loop dat hy te ver kan gaan. Die vraag is of die kunstenaar hoegenaamd mág eet van die “vrugte van die boom van kennis”. Mag hy die Groot Geheim ken, of selfs verwag dat God dit aan hom sal openbaar? Of bestaan die moontlikheid dat Hy die mens “beveilig [...] met damwalle teen / sy see van kennis”? (Die skitterende wond, 1980:41).

Bostaande is ’n kwessie wat Cussons in die volgende gedigte onder die loep neem. Die eerste is “Count-off” (Plektrum, 1970:23):

1      My oubaas Dedalus wys met sy vinger óp:
2      in Lucifer se sonbril sien ek ’n silwer pop.
3      yours truly, facto Dedali, ’n bloedvat-labirint;
4      sy stophorlosie tik, my speelgoedhartjie klop.

In hierdie tradisioneel Persiese kwatryn met sy aaba-rymskema, is daar die mitologiese verwysing na die verhaal van Dedalus en sy seun, Icarus. Dedalus, wie se naam letterlik beteken “cunning craftsman” (Warrington 1970:179), was ’n legendariese Athener wat veral in die kuns van argitektuur en beeldhouwerk uitgeblink het. Sy kundigheid het hy oorgedra aan sy neef, Perdix, wat hom vinnig oortref het in vaardigheid en vindingrykheid. Uit jaloesie vermoor Dedalus vir Pedrix en hy word die doodstraf opgelê. Hy slaag daarin om na Kreta te ontsnap, waar sy bekwaamheid hom die vriendskap van koning Minos besorg. Toe die koningin kort daarna geboorte skenk aan die minotaurus, bou Dedalus die labirint waarin die monster gevange gehou sou word. Wanneer Dedalus ook vir koning Minos aanstoot gee, word hy gevangenisstraf opgelê. Alhoewel die koningin hom bevry, is dit vir hom onmoontlik om te ontsnap, aangesien Minos wagte by elke hawe geplaas het. Dedalus bou dus vir hom en sy seun vlerke wat hy met was heg. Hy waarsku Icarus om nie te naby aan die son te vlieg nie, aangesien die was dan sou smelt en tot sy dood sou lei. Dedalus vlieg veilig oor die Egeïese See, maar Icarus verontagsaam sy vader se waarskuwing en kom om.

Op suiwer mimetiese vlak is die spreker in die gedig Icarus self wat sy vrees vir die vlug wat voorlê, verwoord. Sy vader Dedalus hou naamlik vir hom ’n waarskuwende vinger op. Wat hy sien wanneer hy opkyk, is Lucifer. Cussons ontgin hier die mitiese wêreld van die Bybel en die Griekse mitologie. Die twee wêrelde speel op mekaar in. Volgens Jesaja 14:12 is die koning van Babel ’n Lucifer (Smith’s Bible Dictionary). Jesaja voorspel sy lot in die betrokke teksgedeelte soos volg: “Jy wat die helder môrester was, het uit die hemel geval [...]” Sedert die tyd van St. Jerome (340–420 A.D.) verwys die naam Lucifer na die duiwel, gevalle engel wat dit te na aan die Son gewaag het.

Drie baie subtiele verwysings maak egter ’n tweede lesing van hierdie gedig noodsaaklik. Die eerste is die voorkoms van die twee anachronismes, “sonbril” en “stophorlosie”. Hierdeur word Dedalus uit sy mitologiese tydvak verplaas. Die tweede verwysing is die klem wat in verskeie bronne op die kunstigheid van Dedalus gelê word. Dedalus word hiervolgens simbool van die “kreatiewe instink” (Gilfillan 1984:28). Dat hiermee bedoel word spesifiek die spreker-digter se kreatiewe instink, word gesuggereer deur die feit dat dit ’n “moderne” Dedalus is, nie die vader van die mitologiese figuur, Icarus, nie. Dié feit word verder bevestig deur die derde versreël. Die uitdrukking “yours truly” word naamlik gebruik om in ’n informele gespreksituasie na die spreker self te verwys, hier die digter-spreker.

Wat ter sprake gebring word in die derde versreël, is die verhouding tussen “yours truly”, die digter-spreker, en Dedalus, haar kreatiewe instink. Die uitdrukking “yours truly” word konvensioneel as slot van ’n brief gebruik, gevolg deur die skrywer se naam. In die gedig self word die spreker se naam nie vermeld nie. Haar identiteit word ondergeskik gestel aan dié van Dedalus. Sy is Dedalus se maaksel, “facto Dedali”. Die Latynse werkwoord “factum” beteken “om te maak”. Hier word die werkwoord in die vorm van die verlede deelwoord gebruik, “facto”. Sy, die digter-spreker, is deur Dedalus “gemaak” en as sy maaksel is sy “yours to command”. Sy is die kunstige “bloedvat-labirint”, deur hom ontwerp en gebou om sy bevele te gehoorsaam. In haar gehoorsaamheid aan hom, teen wil en dank, ervaar sy haarself as leweloos – ’n “pop” met ’n “speelgoedhartjie”. En weliswaar sinspeel die simboliek van die labirint, volgens Cirlot (1981:173), op “the loss of the spirit in the process of creation”.

Die metapoëtiese uitspraak wat dus enersyds deur die gedig verwoord word, is dat die digter-spreker, wanneer haar kreatiewe instink “praat”, nie anders kan as om te gehoorsaam nie, ten spyte van haar vrees om te misluk – “my speelgoedhartjie klop”. Wanneer Dedalus se “stophorlosie” die sekondes afgetel het, sal haar kreatiewe energie haar lanseer, weg van die aarde en die aardse af. Sy kan die aandrang van sy “stophorlosie” nie weier nie. Hy is van meet af aan daarvan die baas – “my oubaas” (ou baas).

Maar haar gedwongenheid tot skepping is ook ’n keuse. Sy kies om die bevel nie te verontagsaam nie. Dit word duidelik uit die simboliek verbonde aan die “speelgoedhartjie”. Volgens Cirlot (1981:345) is speelgoed simbole van versoeking. Die digter-spreker kies om aan die versoeking toe te gee, vandaar die vrees. Haar kreatiewe instink waarsku haar immers: “Dedalus wys met sy vinger op”. Sy sien twee gevallenes: Lucifer, wat gedink het hy kan die Son aanskou (en nou ’n sonbril dra vir beskerming!) en Icarus, die “lewelose gevallene”. Maar die sien van die “silwer pop” is ook ’n visioen, want die “silwer pop” is “yours truly”, sy self. Die implikasie is duidelik: indien sy dit te na aan die Son sou waag, sou dieselfde lot haar tref. As “silwer pop” met “speelgoedhartjie” is sy immers uiters klein, kwesbaar. Hiermee verwoord sy ’n ander dimensie van die skeppende drang: die gevaar daaraan verbonde.

Dit is die digter-spreker nie beskore om die “onsegbare Geheim” te ken nie. So word dit verwoord in “Ape sug nie” (Die woedende brood, 1981:31), ’n behoefte wat sy ontstaan het in haar onvergenoegdheid met haar bestaande woorde:

1      ’n Sug is meer as hoorbare asem, is die hele
2      lang geheue van die mens: ou gevegte, antieke
3      kennis, vergete nooit-vergete volvoerings
4      van lê in arms, sterf, werk. Die krygerdigter
5      ná die oorwinning, deklameer resonant
6      sy lofrede aan sy koning, en die hele hof,
7      ook dié wat agter die deure nie ’n woord
8      kan hoor nie, sug ontroer. In somergras
9      of bed van strooi sug minnaars middeleeus,
10    en op die plaas ná sy vir Krismis klaar
11    gebak het, Calvinisties diep voldaan, sug-vind
12    mev. Van As dit goed, soos God in Genesis.
13    Wat weet die tempelape van Nepal, met hulle
14    aapoë blinker as oë van mens want sonder was
15    van gedagte; die ronde uil, die otter, van dié so
16    ingewikkelde fenomeen?
17    Én die digter wat speel met vuur, want dig
18    is speel met vuur – soos daardie vervloë poëet
19    wat nie kon ophou nie, uitgevind het toe
20    die Skoonheid self hom bebliksem het, en hy
21    daarna, kranksinnig, nooit weer ’n reël kon
22    dink nie – dié digter wat sy sit nóg rus
23    kan kry, wrewelig van worstel, sug. Tot oplaas
24    die rustelose ongeneeslike sug na meer en
25    altyd beter taal, die slang, die pragtige slang
26    wat die verbode, onsegbare Geheim omkring,
27    ópjaag uit haar kronkels, sissend na die brein –
28    Minder vermetel lyk dit my om liewer tussen
29    die dooie stene van tempels wat te laat te veel
30    geweet het, met blink, veilige ogies aap-ongeërg te speel.

Scholtz (1991:166–71) bespreek hierdie gedig uitvoerig; daarom volstaan ek met enkele opmerkings. Die interteks by die lees van die gedig is die verhaal “The mirror and the mask” (’n Engelse vertaling), deur Jorge Luis Borges, Argentynse skrywer van wie Cussons etlike kortverhale vertaal en aan wie sy ook die gedig opdra. Sonder om die verhaal in detail oor te vertel, moet genoem word dat dit handel oor ’n digter wat in opdrag van ’n koning ’n gedig oor ’n sekere veldslag moet skryf. Hy kry dieselfde opdrag drie jaar agtereenvolgens, met die boodskap dat hy moet verbeter op sy voorafgaande poging. Die derde gedig wat hy aan die koning kom voordra, bestaan uit ’n enkele reël wat die koning en die digter diep ontroer vanweë die skoonheid daarvan. Die digter bely dat dit wat hy geskryf het, waarskynlik ’n onvergeeflike sonde is, waarop die koning antwoord: “The sin of having known Beauty, which is a gift forbidden to men. Now it behoves us to expiate it” (Borges 1977:33). Daarna pleeg die digter selfmoord en die koning word ’n bedelaar.

Die gedig het dit oor die menslike verskynsel van “sug”. “Sug” is naamlik “meer as hoorbare asem”. Dit is ’n uitdrukking van “volvoering”, van genoegdoening, ontroering, vermoeienis, soos dit in reëls 1 tot 12 weergegee word. Dít is egter die “sug” van die “gewone” mensdom. Uitgesluit van hierdie soort “sug”, is enersyds die aap, net soos die otter en die uil, en andersyds die digter. Wat die ape uitsonder, is die feit dat hulle nie oor die menslike rede beskik nie. Hulle kan nie dink nie, en ken daarom nie die soort sug wat uitdrukking is van ’n rasionele reaksie op ’n prikkel nie.

Die digter-spreker weer, sug nie van volvoering nie, bloot omdat hy die volvoering nie smaak nie. Sy “sug” is ’n versugting, ’n “rustelose ongeneeslike sug na meer en / altyd beter as taal”. Dit is die sug na die volmaakte woord, die woord wat die onsegbare kan sê. Dit is die woord wat die “adder” om die “skof van die melkwit Bees” [is]. Maar die digter-spreker besef dat dié onderneming riskant is. Die “Skoonheid” wat hy mag ontdek, kan hom dalk “bebliksem”. Erger nog – die uiteinde van die ontdekking mag wees dat die “pragtige slang”, Kundalini, gewek word, en dít kan vir die digter-spreker katastrofaal wees: “[...] no one should experiment with or try to rouse it without explicit instructions from a guru, as the dangers connected with its awakening are very real and very terrible” (Scholtz 1991:170).

Om die “Geheim” te skend, om van die vrug van die “boom van kennis” te eet, is om te oortree op ’n terrein waar die digter-spreker nie tuishoort nie. Dig kan ’n fatale bedryf wees en daarom besluit die digter-spreker dat dit beter is, veiliger, om te kyk met die ogies van ’n aap, dit is sonder die verkenning van die denke.

 

3. Die toereikendheid van die digterlike woord

Ten spyte van die voortdurende worsteling met die ontoereikendheid van die menslike kenvermoë en die digterlike woord, is daar nog in heerlike oomblikke vir die digter die ontdekking van die “heuning” in die “menssweet” (Die Somerjood, 1980:8). Dit is ’n ontdekking wat dig tóg die moeite werd maak. God laat Hom wel nog in klein oomblikke ken deur die “bruin spanjool”, al is taal nóg so menslik.

Soms beskryf die digter-spreker slegs haar vreugde by die ervaring van die wonder van die digterlike woord. In “Kennismaking” (Die swart kombuis, 1978:26) verwoord sy hierdie soort ekstase:

1      Blinker wewe deur die brein
2      gloeidrade: daar kom stormweer!
3      Toe ek baie klein en bles
4      skaars nog ’n voetganger was
5      tóé al was dié te kere gaan
6      van die elemente die groot aardwonder:
7      die ruik van reent en die wit haelsteentjies
8      wat bont rondgespring het
9      en “wip, baba, wip” vir my gesing het
10    onder die raas met die blitse
11    die’t ek oopmond geëien
12    en op die punt van my tong tóé
13    die verrassing van druppels geproe
14    wat van ’n water
15    uit die lug is, soos later
16    van woorde, blink uit die brein.

Die digter-spreker trek ’n parallel tussen twee soorte stormweer wat sy in haar lewe leer ken het. As peuter het sy kennis gemaak met die natuurstorm, die “te kere gaan / van die elemente”. En dié “groot aardwonder” was vir haar ’n verruklike ervaring. As volwassene maak sy kennis met ’n andersoortige storm. Die produk van die natuurstorm was reën en “haelsteentjies”, dié van die latere storm, woorde.

Cirlot (1984:315) se uitspraak oor die simboliek van ’n storm belig die verbintenis tussen hael (of reën) en woorde. Albei is produkte van ’n storm: “[t]he myth of the creative storm (or creative intercourse between the Elements) is universal [...]”. Die “stormweer” is dus ’n verwysing na die kreatiewe werking van die brein.

Die woordgebruik in die eerste twee versreëls versterk die suggestie van kreatiewe energie wat losgelaat word. “Blink(er)” bevat onder andere die betekenisnuanse van vernuftigheid, skerpsinnigheid, wat ’n voorvereiste vir kreatiwiteit is. “[W]ewe” is wesenlik ’n kreatiewe handeling. Dit dui immers op die vervaardiging van materiaal wat in baie kulture ’n fyn kuns is. Dit is opvallend dat die HAT in albei die voorbeeldsinne by die lemma “weef” in sy figuurlike betekenis, ’n kreatiewe dimensie betrek: “’n [s]torie weef uit ’n aantal losstaande gegewens.” En: “[h]ulle weef ’n legende rondom die held se dood.”

Die proses wat hier beskryf word, is dus wesenlik ’n kreatiewe proses, uiteraard bevestig deur die feit dat dit in die “brein” afspeel. Die “gloeidrade”, dendriete van die brein en tekenend van insig, word deur die brein “geweef”, met ander woorde “losstaande gegewens” word kreatief saamgesnoer om die insig te verwoord. In strokiesprente is die gebruik van ’n gloeilampie om ’n blink idee of ’n skielike insig voor te stel, universeel.

Dit is inderdaad wat in die denkproses gebeur. Boodskappe beweeg deur die dendriete in die brein soos elektriese impulse, met kontak as die resultaat. Losstaande impulse kan dus wel gebind word om samehangende gedagtes te vorm.

In die reëls wat volg (3–5), beskryf die digter-spreker die uitbundigheid waarmee sy as peuter (“skaars nog ’n voetganger”) ’n storm beleef het. Opvallend is die sintuiglikheid van die belewing wat haar bybly. Sy het die blitse nie slegs gesien nie, sy het hulle “geëien”, asof hulle haar geboortereg was. Sy het die reën geruik, die sang van die “haelsteentjies” gehoor. Die water geproe en met haar hele wese gereageer: “wip, baba, wip”.

Die implikasie hiervan is dat sy as volwassene, maar in die eerste plek as digter, steeds ’n storm met dieselfde intense verrukking beleef, met dié verskil: in die “breinstorm” het die “water” “woorde” geword. Dit is nie vreemd dat die digterlike woord hier in verband gebring word met water nie. Sy doen dit ook later in “Akwaties”, waarop reeds gewys is.

Dit is noemenswaardig dat Cirlot (1981:315) verder ook die heilige kwaliteit van ’n storm pertinent vermeld: “[t]he storm, like everything else that occurs in heaven or descends therefrom, has a sacred quality about it.” Sy uitspraak vind aansluiting by die heiligheid wat die skeppende handeling vir Cussons kenmerk, as synde in die eerste instansie ’n religieuse handeling.

Die gedig sluit besonder heg met die herhaling in die laaste versreël, weliswaar met ’n wysiging, wat daarop dui dat die storm wat in die eerste twee reëls aan die broei was, tot uitbarsting gekom het. En die storm het “woorde” voortgebring, “blink uit die brein”. In die slotreël kry “blink” ’n bykomende betekenisskakering. Die woorde is nie slegs vernuftig nie; dit is ook glansend, en reflekteer as sodanig die volvoering van die kunstenaar wat sy skepping kan betrag en weet “dat dit goed was”.

Dit is op sulke dae “van woorde blink uit die brein”, dat Cussons se digter-spreker die wêreld as ’n “kermis” ervaar (Die woedende brood, 1981:6):

1      Soms is verbeelding ’n Dionysus
2      en soms ’n Sisyphus.
3      Die wêreld kan ’n kermis wees
4      of eindeloos opdraand asfalt.
5      Soms is alles oorstelpend gekleur
6      en soms het dit die waterkleur van niks.
7      Of als in die oog is of buite die oog
8      laat ek aan Husserl en Berkeley:
9      die dag wanneer woorde soos wyn in my werk
10    maak dit hoegenaamd nie saak nie.

Die titel van die gedig, “Op ligte fantastiese toon”, suggereer reeds dat dít wat gaan volg ’n positiewe belewenis sal wees. Die toon sal “lig” wees, met ander woorde, getuig van opgetoënheid, en dit sal “fantasties” wees. Laasgenoemde word deur die WAT gedefinieer as “[...] wat ontstaan het uit die wilde en onbeteuelde fantasie”.

’n Bevestiging van die metapoëtiese aard van die gedig word in reël 9 met die verwysing na “woorde” gevind. Dat hiermee bedoel word die kreatiewe woord, is in retrospek duidelik uit die titel se suggestiewe verwysing na “fantasie”, synde “skeppende, produktiewe verbeelding” (WAT) en uit die gewysigde herhaling van “verbeelding” (reël 1), as sinoniem vir “fantasie”.

Die eerste twee versreëls bestaan uit ’n teenstellende waarneming, wat in die derde tot sesde reëls uitgebrei word. Die ses reëls bestaan uit drie sinne wat elk oor twee reëls loop. Die eerste reël van elkeen van dié drie sinne bevat ’n uitspraak wat beskrywend is van die “ligte fantastiese toon”. Die woorde uit dié reëls wat ’n paradigma vorm met die titel, is “Dionysus”, “kermis” en “oorstelpend gekleur”.

Die verbeelding word metafories “[s]oms [...] ’n Dionysus”. Dionisos is ook bekend as Bacchus, die vrolike, luidrugtige god van wyn. Die implikasie is dat die digter-spreker se verbeelding soms, soos dié god s’n, luidrugtig in haar werk. Dit is die dae waarop sy die wêreld as ’n “kermis” ervaar, kleurvol en uitbundig vrolik. Op sulke dae werk haar “woorde soos wyn” in haar.

Hierdie uitspraak sluit aan by wat Nietzsche oor poësie gesê het (Bowra 1949:5). Hy het naamlik onderskei tussen die Apolliniese en die Dionisiese elemente in poësie. Van toepassing hier is wat hy noem

[...] the Dionysian world of “intoxication”, of “excitement” and ecstasy, in which there is no calm and no clarity, but a strange sense of power and a narcotic influence which makes a man forget himself and identify himself with nature or the human crowd in its less rational and more instinctive moods.

In teenstelling met hierdie dae is daar die dae waarop die verbeelding ’n “Sisyphus” is. In die Griekse legende is Sisyphus die straf opgelê om in die onderwêreld ’n groot klip teen ’n steil berg op te stoot. Omdat die klip elke keer wat dit die kruin bereik het, weer teruggerol het, was Sisyphus se taak nimmereindigend; het dit tot niks gelei nie omdat dit telkens ongedaan gemaak is (Evans 1990:1024). Die vierde versreël sluit mimeties by die legende aan, maar ook semiologies word die “eindeloos opdraand asfalt” die Sisyphus-arbeid wat die digter-spreker so dikwels frustreer.

Reël 5 en 6 is, behalwe ’n voortsetting van die teenstelling, ook ’n voorloper tot die volgende twee reëls, waarin daar na die visuele verwys word. Dit kan nie anders nie wanneer ’n mens met Cussons te make het. Die visuele is by uitstek die aanvuurder van haar skeppingsdrif. Die interessante hier is dat sy erken dat, op dae wanneer “woorde soos wyn in (haar) werk”, sy die visuele nie nodig het nie. Op sulke dae maak waarneming nie saak nie, en by implikasie kleur ook nie, want sy kan skep, “of als in die oog is of buite die oog”, met ander woorde, of sy kan waarneem of nie. Kreatiwiteit kan woorde so primêr maak dat die visuele as bron van kreatiwiteit nie meer as noodsaak ervaar word nie. Die bedwelmende werking van woorde is dan genoeg en die visuele is ’n kwessie wat sy geredelik aan Berkeley en Husserl oorlaat.

Berkeley, ’n Britse empiris, se filosofie aangaande waarneming kan saamgevat word in sy bekende uitspraak “esse est percipi”: om te bestaan is om waargeneem te word. Objekte se bestaan gaan dus op in hulle waargenomenheid (Lacey 1976:20). Husserl is bekend vir sy filosofiese fenomenologie, ’n filosofie wat ook waarneming betrek. Hiervolgens val die klem nie op die beskrywing van waarnemings nie, maar op die voorwerpe van die ervaring in die wêreld van verskynsels (Lacey 1976:83).

Die finale metapoëtiese uitspraak wat hierdie gedig wil maak, is dat die digterlike skeppingsproses soms moontlik gemaak word deur die bedwelmende effek van woorde. Dán steun die digter nie op waarneming nie. “[V]erbeelding” het nie áltyd die visuele nodig nie.

Nog ’n gedig waarin die “regte woord” wel gevind word, is “Woord” (Die swart kombuis, 1978:60). Ook hier geskied dit sonder die aanvuring deur die visuele:

1      Dan uit nêrens spring die regte woord
2      en kom sommer op sy plek tussen
3      die woorde staan, ontstaan gestalte, kolskoot
4      uit ’n êrens deur die neurone op die papier.
5      Gees: die buite, buite die ruim selfs,
6      wat minder as ’n speld ’n ruimte nodig het
7      hebbende geen dele, ondeelbaar en eenvoud
8      (hoeveel engele kan op ’n speldekop dans)
9      inwonend maar nie omvat nie: operatief,
10    ook nie woon nie, ís
11    therefore exceeds any concepts of vastness,
12    en wat op die klein punt van my bewustheid
13    in die tyd kom dans.

Twee verwante aspekte van die digproses word in die gedig aangeraak: die misterie daarvan en die feit dat die “regte woord” soms vanself kom. Dit spring van “nêrens” en “kom sommer”, amper bonatuurlik, “op sy plek staan”.

“Dan” suggereer dat daar ’n soeke is wat die vind van die toereikende woord voorafgaan. Dit is ’n woord wat “op sy plek” kom “spring”, soos wat die “begrip” ook “spring” in “Akwaties”. “[O]p sy plek” impliseer dat die “regte woord” nie alleen die woord is wat semanties akkuraat is nie, maar ook die woord wat sintakties doelmatig is. Semanties gesproke is dit die woord waardeur “gestalte” “ontstaan”, die woord wat die beliggaming is van alles wat die digter-spreker begryp het, maar gesukkel het om onder woorde te bring. Die assosiasie met die Bybelse “gestalte van God” (Fil. 2:6) gee aan die woord ook ’n geestelike dimensie. Die “regte woord” is dus ten slotte ook die woord wat iets van die Goddelike kan weergee.

Aanvanklik identifiseer die digter-spreker die plek waarvandaan die “regte woord” kom as “nêrens”. Die implikasie is dat sy nie weet waarvandaan dit kom nie. Trouens, dit wil voorkom asof dit nie eintlik iewers vandaan kom nie. Die “nêrens” word egter drie reëls verder “’n êrens”. Die progressie suggereer dat sy wel erkenning gee aan die bron van die oorsprong van die “regte woord”. Sy identifiseer dit naamlik in die volgende reël as “Gees”. Die werksaamheid van die “Gees” word eers in die laaste twee versreëls omskryf. Die “Gees” “kom dans” “op die klein punt van [haar] bewustheid” “in die tyd”. Daarmee sluit sy aan by die vorige gedigte waarin sy te kenne gegee het dat dit uiteindelik God is wat deur haar dig, soos, onder andere, in “Triomf” (Die knetterende woord, 1990:59), “Vir Juan” (Die knetterende woord, 1990:71), “Tot ... ” (Die knetterende woord, 1990:36) en “6 Augustus: Transfigurasie” (Die woedende brood, 1981:21).

Om die teenstrydighede wat vir die mens die begrip Gees kenmerk te omskryf, maak sy gebruik van ’n reeks paradokse wat volg op die dubbelpunt na “Gees”. Die paradoksale kenmerk van die “Gees” is dan sy uitgebreidheid in die ruimte, die feit dat Hy “buite die ruim selfs” is, maar “minder as ’n speld ’n ruimte nodig het”. Die “Gees” woon in die mens en tog kan die mens met sy liggaamlike en geestelike beperktheid Hom nie “omvat” nie. Hy kan werk (“operatief” wees) in die mens se bewussyn. Met ander woorde, ten spyte van sy ongebondenheid aan tyd en ruimte, kan Hy ín tyd en ruimte werk. Hy kan op die “klein punt”, die “speldekop”-“punt” van haar “bewustheid” kom dans, soos die spreekwoordelike engele. God se werking in haar word vir die digter-spreker werklikheid in die vind van die regte woord. Dít is hoe Hy Hom in heerlike oomblikke aan haar openbaar. Dit is ook insiggewend dat die “Gees” “operatief” is deur te “dans”. Volgens Cirlot (1981:76) is die dans simbolies van die skeppingsdaad.

Dit is juis omdat God “dansend” déúr haar dig dat sy soms bewus raak daarvan dat “woorde staan op ’n vlak / wat ’n ruimte gaan word”, soos in “Stillewe” (Die swart kombuis, 1978:59):

1      Vierkant, wat ons altyd gou teken
2      óm die ontwykende en om die sfeer
3      te beredeneer, toon kleure en volumes
4      in verhouding tot mekaar, komposisie
5      op ’n vlak wat gaan lyk na ’n ruimte.
6      En woorde staan op ’n vlak
7      wat ’n ruimte gaan word en nie gaan stil
8      leef nie maar kwellend.

In die beeldende kunste word die term ruimte gebruik om te verwys na “a. the designed and structured surface of a picture” en “b. the illusion of depth on a two-dimensional surface” (Webster’s Encyclopedic Unabridged Dictionary of the English Language).

Wat uitgebeeld word in die gedig, is die kontras tussen visuele kunswerk (“stillewe”) en woorde. Die “stillewe” sal, ten spyte van sy twee-dimensionaliteit, “lyk na ’n ruimte” (my kursivering), met ander woorde, die indruk van drie-dimensionaliteit skep. Die digter-spreker gebruik die woord ruimte hier juis nie soos dit in die beeldende kunste gebruik word nie, maar as verwysend na “the unlimited or indefinitely great three-dimensional expanse in which all material objects are located and all events occur” (Webster’s Encyclopedic Unabridged Dictionary of the English Language). Deur die gebruik van “lyk” suggereer die digter-spreker dat die indruk van “ruimte”-te-wees ’n illusie is. Die “stillewe” is en bly “komposisie / op ’n vlak”, twee-dimensioneel en staties, soos sy naam reeds laat vermoed. Die wordende voorwerpe is reeds vasgevang, die “ontwykende” geraam deur die “[v]ierkant” wat alles gevange hou, gestol in die oomblik wat ewig, maar stil dúúr.

Die kontras met “woorde” is daarin geleë dat “woorde”, wat ook “op ’n vlak” “staan”, met ander woorde twee-dimensioneel voorkom, dit nie is nie. Woorde “gaan” “’n ruimte” “word” (my kursivering). Die digter-spreker, omdat sy met woorde werk, wéét woorde is onbegrens, nie vasgevang binne ’n “[v]ierkant” nie. Ook hier is sprake van ’n illusie wat geskep word. Woorde, wat nié so lyk nie, is meer-dimensioneel en dinamies. Hulle leef nie “stil” nie, maar “kwellend”. In die woord wat “ruimte” geword het, gebeur dinge. Die implikasie is ook dat hulle die digter-spreker nie met rus laat nie, dat sy kognitief, piekerend die “ruimte” verken.

’n Aanhaling van Rylands (1928:xii) oor die potensiaal van woorde, taal, om die mens telkens te verstom, is uiters toepaslik hier:

Those small articulated sounds, that seem so simple and so definite, turn out, the more one examines them, to be the receptacles of subtle mystery and the dispensers of unanticipated power. Each one of them, as we look, shoots up into
          “A palm with winged imagination in it
          And roots that stretch even beneath the grave”.

Dieselfde woord-waarheid, en in ’n mate dieselfde kontras, word uitgebeeld in “’n Conceit” (Die knetterende woord, 1990:20):

1      ’n Woord dy uit tot ’n ruimte
2      waarin daar dinge gebeur
3      Vermeer wat memoriseer
4      wat hy sien op doek beskryf
5      om met lig, venster, geel,
6      terug te glip in ’n woord in –
7      Die woord is ’n ontsluitspier.

In albei bostaande gedigte, “Stillewe” (Die swart kombuis, 1978:59) en “’n Conceit” (Die knetterende woord, 1990:20), val die klem op die dinamiese aard van die woord. Die woord wat “word” in “Stillewe”, “dy” hier “uit tot ’n ruimte”. Die digter-spreker kwalifiseer in die tweede versreël duidelik wat sy met “ruimte” bedoel: dit is ’n plek “waarin daar dinge gebeur”.

In essensie vind ’n mens in sowel “Stillewe” as in “’n Conceit”, ’n verwoording van die digter-spreker se onwrikbare geloof, nie net in die potensiaal van die digterlike woord nie, maar ook in die dinamiese, verbreidende mag daarvan. As sodanig dui die titel semanties eerstens op die selfingenomenheid, die “verwaandheid” van die digter-spreker oor die potensiaal van haar woorde. Sy weet “[a] great artist can invest a common word with a miraculous significance – can suddenly turn a halfpenny into a five-pound note” (Rylands 1928:xv).

Die digter-spreker se geloof in die moontlikhede van haar woorde kulmineer in die slotreël waar sy die “woord” metafories gelykstel aan “’n ontsluitspier”. Semanties vind die titel dan ook by hierdie beeld aansluiting. “’n Conceit” verwys inderdaad onder andere na ’n “vergesogte vergelyking”, ’n metafoor – “an elaborate, fanciful metaphor, esp. of a strained or far-fetched nature” asook “the use of such metaphors as a literary characteristic, esp. in poetry” (Webster’s Encyclopedic Unabridged Dictionary of the English Language). Die metafoor berus dus op ’n vergesogte vergelyking en illustreer daarmee ook sommer die veelsydigheid van die “woord”. In “a conceit”, sê Eliot, “two things very different are brought together, and the spark of ecstasy generated in us is perception of the power in bringing them together” (in Lu 1966:63).

Die “two things very different” is hier die “woord” en ’n “ontsluitspier”. Gegewe die definisie van ’n spier as “[w]eefselbundel in die liggaam van die mens of dier wat kan saamtrek en rek en waardeur die beweging van die dele moontlik gemaak word” (HAT), is dit duidelik dat ’n spier eerstens geassosieer word met die moontlikheid van beweging en tweedens met krag. Die beweging wat moontlik gemaak word deur die woordspier is “ontsluit”-ing. Om iets te “ontsluit”, is om dit bloot te lê, dit toeganklik te maak. Die implikasie is dat, deur die “woord”, die “ruimte” toeganklik gemaak word. Die “woord” is immers die spier wat die “ruimte” oopsluit; ’n nuwe ervaring toeganklik maak. Wat Eliot oor Andrewes beweer (Lucy 1960:114), suggereer iets van die “spierkrag” van Cussons se “woord”: “Andrewes takes a word until it yields a full juice of meaning which we should never have supposed any word to possess.” Cussons se woord is in die skeppingsproses, in die woorde van Van Wyk Louw (“Ars poetica”, Tristia, 1962:34), “fluit” “wat, terwyl [sy] blaas: trompet word; / en ná trompet: ’n stad; / én, waar die stad verwilder: / dat dit bloeiende maankraters / word wat uitblom in / bloed en vuurpyl”.

Die digter-spreker stel in “’n Conceit” die digterlike woord parallel aan die skilder se “taal”. Die verwysing na Vermeer is ’n verwysing na die Nederlandse skilder Johannes Vermeer. De Vries (1939:71) sê dat Vermeer “zag en dacht in kleur en licht [...]”. Hy het die kuns verstaan om die meeste effek uit sy kleur te haal en met lig te modelleer. Selfs sy skaduwees is met lig deurdrenk en vol deurskynende kleur. Sy meesterskap lê veral in sy “binnenshuisjes” met een of twee figure besig om musiek te maak, ’n vrou of meisie by ’n venster, besig om te lees of by ’n tafel te sit en ’n brief te skryf. Dít is die dinge wat Vermeer waarneem (“sien”) en op doek weergee (“beskryf”).

Die problematiese in die gedig is reël 6. Sintakties sou die voorafgaande reëls saam met hierdie reël kon lees dat Vermeer die dinge wat hy sien op doek beskryf “om”, met ander woorde “met die doel om”, met lig, venster en geel “terug te glip in ’n woord in”. Dit skyn of die digter-spreker die uitspraak maak dat ook die skilder hom ten slotte op die “woord” verlaat. So ’n interpretasie klop nie met die volgende uitspraak van De Vries (1939:46) oor Vermeer nie: “evenal een schrijver niet steeds bijvoeglijke naamwoorden behoeft of gezochte zinswendingen, zoo ook heeft Vermeer niets anders noodig gehad dan zijn schilderstaal, wars van opsmuk, eenvoudig en zeldzaam zuiver.”

As reël 6 egter saam met die eerste reël gelees word, dui “woord” op die “woord” wat “ruimte” geword het, die “woord” “waarin daar dinge gebeur”. As sodanig word die reël dan ’n uitdrukking van die digter-spreker se onwrikbare vertroue in die omvattende potensiaal van die woord – alles wat Vermeer op doek “beskryf”, pas volgens dié lesing dan ín die “woord”. Die “woord” is in staat om weer te gee wat Vermeer op doek vaslê.

In “Los” (Verwikkelde lyn, 1978:29) besing Cussons se digter-spreker die heerlike “roes van / dwarrelende woorde”:

1      En noudat ek lê – maar wag, voordat ek gaan lê het,
2      het ek opgekyk in u nag en skoon in die rondte
3      gedraai van soveel ontsaglike sien: ’n hele rond
4      vol wilde wolke, kringende kolk, ’n bodemlose
5      omhoogte vir die vrye val is, weg uit my voete uit,
6      los soos ’n gelukkige klip oneindige nagdiepte in,
7      en die swaar sipres saam soos ’n spies sy spits agterna.
8      En noudat ek lê, met ’n reeks dankies netnou nog
9      gereed, vind ek my stom: U weet dit immers alles,
10    alles wat ek gememoriseer het vir die oomblik –
11    Vaak nou, slier my gedagtes in eiewyse patrone,
12    gestaltes, oerdinge wat dagdink sou betig en snoei,
13    maar U oorweldig my, vul my lede met sagtheid, totdat
14    ek los en losgeryg uit al die knellende knoopwerk
15    waarmee ek my ordelik hou, vry soos ’n klip en net so
16    kaalgat en nie eens bewus van waar ons gaan nie,
17    vaar aan u arm, onbevange babbelend in tuimelende vaart
18    van woorde, paal, perk en fatsoen verby, soos U gewil het
19    van die begin af, voor die Duiwel besorg oor my boosheid
20    my leer hakkel het in ontsenude sinne: sýne, en mag
21    hy wurg aan hulle noudat ek, ontvoer, vervoer, straal uit
22    my boeie ’n juig van wilde wolke in, in prag, roes van
23    dwarrelende woorde een ontvangende grenslose Aandag in.

Eintlik kry ’n mens in hierdie gedig ’n kulminasie van feitlik alle voorafgaande aspekte van Cussons se digkuns: digkuns as mistieke belewenis, as die resultaat van “ontsaglike sien”, die knaende ontevredenheid oor die “ontsenude sinne” van die mens en ten slotte ook die vreugde oor die “roes van dwarrelende woorde”. Dit word hieruit duidelik dat dit nie moontlik is om Sheila Cussons se gedigte te etiketteer en daarmee af te handel nie. Die verskillende aspekte vorm die spreekwoordelike web. Waar ’n mens ook al trek, roer die hele web. “Sien” word nadenke; nadenke word mistieke belewenis en mistieke belewenis loop uit op óf die hartseer oor die onvermoë om die wonderervaring te verwoord, óf die vreugde oor die gawe van woorde.

Die titel van bostaande gedig verwys na die digter-spreker se ervaring van intense vryheid – ’n toestand waarin sy nie gebind is aan die aarde of die aardse se beperkende en inperkende invloed nie. Sy val ’n “vrye val”. Die “vrye val” dui hipoteties op die val van ’n liggaam op so ’n wyse dat die enigste krag wat op die liggaam inwerk, swaartekrag is. Die handeling wat hierdie toestand teweegbring, is “sien”. Dit is belangrik om daarop te let dat sy die naghemel beskryf as ’n “omhoogte vir die vrye val” (my kursivering). Daaruit blyk dat sy op hierdie stadium net nog oor die moontlikheid van “los”-raak besin. Die opkyk in die naghemel bring die gevoel dat sy sou kon los-raak van die aarde, asof daar ’n soort teenswaartekrag werksaam sou kon raak, of die swaartekrag sou kon verskuif vanaf die aarde na die naghemel. As gevolg daarvan sou die digter-spreker kon ervaar dat sy “val” “uit [haar] voete uit” die “oneindige nagdiepte in”.

Die simboliek van die voet is betekenisvol as dit saam met reël 5 gelees word. Die voet is naamlik volgens Jung (Cirlot 1981:111) “what confirms Man’s direct relationship with the reality of the earth”, “signifying [...] the relationship as well as the point of contact between the body and the earth”. Dit is duidelik dat die belewenis van “uit [die] voete uit” “val” een is van ’n totale “loslaten van de wereld” (Weima 1981:144).

“Sien” is hier, soos telkemale, die impetus agter die mistieke belewenis. Die bedwelmende effek wat die “sien” op die digter-spreker het, word gesuggereer deur die feit dat sy die gevoel kry dat sy “in die rondte gedraai” word. Alles wat sy vervolgens waarneem, dra subtiel die kwaliteit van rondheid. Die wolke is “rond”, word metafories ’n “kringende kolk” met die potensiaal om die digter-spreker in te trek. Sy ervaar haarself, by wyse van vergelyking met ’n “klip”, as rond. En ten slotte het ook die sipres ’n geronde vorm wat spits na bo loop.

Die subtiele verwysing na rondheid, met die suggestie van sirkelvormigheid, is belangrik. Volgens Cirlot (1981:47) is die sirkel simbool van “perfection” en van die Jungiaanse “inner unity”, die “ultimate state of Oneness”. Die verwysings na rondheid suggereer dus sowel die volmaaktheid, as die integrerende aard van haar belewenis.

Die vergelyking met “klip” is gepas omdat “klip” simbool is van “being, [...] cohesion and harmonious reconciliation with self” (Cirlot 1981:313). Die gebruik van die byvoeglike naamwoord “gelukkige” dui in ooreenstemming hiermee op haar toestand van euforie. Ook word “klip” assosiatief verbind met “val”, na aanleiding van die uitdrukking “soos ’n klip val”.

Die verwysing na die “sipres” wat “soos ’n spies” agter sy “spits” aan trek, is betekenisvol. Cirlot (1981:75) sê van die sipres dat dit ’n boom is “dedicated by the Greeks to their infernal deity. The Romans confirmed this emblem in their cult of Pluto, adding the name ‘funeral’ to it, a significance which still clings to it today”. Die sipres is weliswaar met hierdie simboliek “swaar” van die aarde. Die “los”-raak van die sipres sou daarom die krag en intensiteit van die digter-spreker se ervaring kon beklemtoon. Die allitererende s-klanke in reël 7 suggereer pragtig die feitlik geluidlose voortstuwing van die “sipres” die “nagdiepte” in: “die swaar sipres saam soos ’n spies sy spits agterna.”

In reël 8 voltooi die digter-spreker die uitspraak waarmee sy in die eerste reël begin het, en wat sy onderbreek het om die ervaring van die “ontsaglike sien” te beskryf: “[e]n noudat ek lê”. Dít waarvan sy bewus raak “noudat [sy] lê”, is dat sy “stom” is. En haar “stom”-heid is ’n gevolg van die “ontsaglike sien”. Dit word in retrospek duidelik dat haar “stom”-heid betrekking het op die “reeks dankies” wat sy “gememoriseer” het. Die implikasie is dat sy by die aanskoue van soveel skoonheid in God se naghemel, nie in staat is om selfs die voorbereide “dankies” te uiter nie. “Vaak” gee sy haar dus oor aan haar gedagtes. Die wegsink in die toestand tussen slaap en wakker weer bring die ontsnapping uit die rigiede dissipline van “dagdink” wat “betig en snoei”. Haar gedagtes word nie deur haar wakker rede beheer nie, maar “slier [...] in eiewyse patrone, gestaltes, oerdinge”: ’n assosiatiewe spel wat deur “dagdink” belemmer sou word.

Met die byhaal van “gestaltes” en “oerdinge” betrek sy die Jungiaanse wêreld van die persoonlike en die kollektiewe onbewuste. Retrospektief is dit dan duidelik dat “dagdink” Jungiaans verwys na die bewuste: Die somtotaal van voorstellings, idees, emosies, waarnemings en ander intellektuele inhoude wat deur die ego erken word (Jung 1941:3). Dié bewuste word deur die digter, op soek na die toereikende woord, verwerp as synde die bron van “ontsenude sinne”. Maar ook nie die wegsink in die Jungiaanse onbewuste bring in hierdie geval die gesogte woord nie.

Die wending kom in reël 13 met die teenstellende voegwoord “maar”. Wat volg, is ’n beskrywing van die digter-spreker se “oorweldig”-ing deur God. Die moontlikheid vir ’n “vrye val” wat in die eerste sewe reëls slegs beskryf is, word in die laaste elf reëls werklikheid. En wat sy ervaar, kompenseer vir haar voorafgaande gebrek aan woorde. Die vryheid wat sy in die “val” ervaar, word in haar “losser” woorde weerspieël. Dit is ten slotte slegs die mistieke ervaring wat die werklik “onbevange” woorde kan voortbring. Want “onbevange” suggereer dat haar woorde vry is van oordele en vooroordele, vry van die “gestaltes” en “oerdinge” wat haar denke en woorde mag beïnvloed, vry van die “eiewys”-heid wat steeds in die onbewuste haar gedagtes rig. Sy “vaar” immers nou aan God se arm, “oorweldig” deur Hom. En Hy “vul [haar] lede met sagtheid”. Die suggestie is dat sy in die mistieke eenwording tussen haar en God geen weerstand bied nie, maar haarself ten volle oopstel vir die ervaring. Die gevolg is die intense vryheid wat sy beleef, gesuggereer deur die volgende woordreekse: “los en losgeryg uit al die knellende knoopwerk”, “vry soos ’n klip”, “kaalgat”, “onbevange babbelend”, “tuimelende vaart”, “paal, perk en fatsoen verby”, “ontvoer, vervoer, straal uit / my boeie”, “roes van / dwarrelende woorde”.

Wanneer ’n mens die woordreekse beskou, word dit duidelik dat haar vryheid direk verband hou met haar vermoë om die woord te beheer, nie as instrument van die rede nie, maar as instrument van God wat déúr haar werk.

Die gebruik van “tuimelende” suggereer haar verlies van beheer. Die suggestie is dat sy “onderstebo” val – sy val immers die lug in, maar “tuimelende” word hier spesifiek gebruik om haar “vaart van woorde” (my kursivering) te beskryf. Dit is God wat déúr haar praat, wat haar “onbevange” laat “babbel”, verby “paal, perk en fatsoen”. Niks beteuel haar nie. Haar aframmeling is spontaan, vrymoedig, grens amper aan histerie in die ekstase van haar mistieke saamwees met God. En dit is hierdie “dwarrelende woorde” wat God “gewil” het voordat die Duiwel haar “leer hakkel” het.

“[R]oes” dui op die “[b]edwelming deur sterk drank” of die “bedwelming van die sinne deur opwinding, vreugde [...]” (HAT). Die “roes van / dwarrelende woorde” dui ook op God se invloed. Dit is Hy wat haar woorde láát dwarrel. Die suggestie van “verwarring”, wat opgesluit lê in “dwarrelende”, hou juis hiermee verband. In haar totale oorgawe aan Hom is sy “nie eens bewus” van waar hulle gaan nie. Sy is vervul van Hom. Die suggestie van “dronkenskap” herinner sterk aan die dissipels se spreek in tale nadat hulle met die Heilige Gees vervul is op die dag van die Pinksterfees (Hand. 2). Die skare wat die dissipels hoor praat het, het onder die indruk verkeer dat hulle dronk was.

Die vergelyking met “klip”, wat in gewysigde vorm in reël 15 herhaal word, klink paradoksaal. “[K]lip” is immers by uitstek iets wat met swaartekrag geassosieer word en daarom oënskynlik alles behalwe “vry” en hier is die “val” juis ’n “val” na vryheid. Die vergelyking word verder uitgebrei deur “net so / kaalgat”. Die verwysing na naaktheid kan volgens Cirlot (1981:230) op twee maniere geïnterpreteer word. Die eerste moontlikheid is hier van toepassing: “[...] it lifts one’s thoughts toward the pure peaks of mere physical beauty and [...] towards the understanding of, and identification with, moral and spiritual beauty [...]”. Die toestand van naaktheid is dus simbolies van die agterlaat van alles wat aards is, as voorvereiste vir die identifikasie met God, die Groot Rots met wie sy as “klip” kan identifiseer. Die heelheid wat haar ervaring kenmerk, skakel verder met Jung se siening van die simboliek van ’n klip: “[...] the stone symbolizes what is perhaps the simplest and deepest experience – the experience of something eternal that man can have in those moments when he feels immortal and unalterable” (1964:224).

Maar méér as dit nog, is die digter-spreker se “val” ook terug in die paradyslike staat voor die sondeval, toe die mens nog nie nodig gehad het om sy naaktheid te bedek nie. Sy val “paal, perk en fatsoen verby”. Die implikasie is dat haar woorde die grense van algemeen aanvaarde norme oorskry, maar dié norme is die norme van die mens ná die sondeval.

Die “hakkel”-ende woorde, die “knellende knoopwerk” waarin die digter-spreker verstrik geraak het, is die duiwel se skuld. Dit is hy wat die mens se praat be-duiwel het; die digter-spreker se woorde kragteloos gemaak het. Haar val is gelukkig ’n val terug na die “fatsoen” wat gegeld het in die onbevange toestand voor die sondeval. Daarom kan sy vloeiend praat, in die taal van die mens in sy paradyslike staat, voordat die perfekte kommunikasie met God versteur is, toe die mens nog die volmaakte beeld van God was met volmaakte woorde.

Die ekstase van die belewenis van die paradyslike staat word deur die laaste drie versreëls gesuggereer. Sy word deur God “ontvoer”, met geweld (“oorweldig”) uit die duiwel se “beskerming” weggeneem. Sy “straal” uit die “boeie”. Niks verhinder haar vryheid van beweging nie, niks aards neem haar gees in beslag nie. Sy “straal” “een ontvangende grenslose Aandag in”. God ontvang haar, bepaal Hom by haar woorde, want in die mistieke eenwording is die verbreekte kontak tussen God en mens nou herstel. Haar woorde is vir dié oomblik volmaak.

 

4. Ten slotte

Dit is duidelik dat die absolute skeiding tussen taal en werklikheid of die reduksie van taal tot ’n arbitrêre tekensisteem los van die werklikheid by Cussons nie bestaan nie. Haar worsteling met die ontoereikendheid van taal as “voertuig van haar denke” is essensieel ’n weerspieëling van haar eie menslike ontoereikendheid. Sy betreur nie die vermoëns van taal nie; sy is eerder diep bedroef oor haar eie onvolkome insig en verwoordingsvermoë, wat ’n gevolg is van die sondeval en die mens se gevolglike “verplunderdheid” (Die Somerjood, 1980:12).

Soms is daar by haar die vraag of die kunstenaar hoegenaamd die Groot Geheim mág ken of selfs verwag dat God dit aan hom sal openbaar. Bestaan die moontlikheid dat Hy die mens “met damwalle” “beveilig” teen sy “see van kennis”? (Die skitterende wond, 1979:41). Of is dit die digter-spreker gewoon nie beskore om die “onsegbare Geheim” te ken nie, soos verwoord in “Ape sug nie”? (Die woedende brood, 1981:31).

En dan weer, andersins, is daar by haar die vaste vertroue in die vermoë van taal wanneer die “regte woord” – semanties akkuraat en sintakties doeltreffend – “sommer op sy plek tussen / die woorde kom staan” “Woord” (Die swart kombuis, 1978:60).

In haar bemoeienis met taal bevind Cussons, as digter, haar dus telkens tussen die twee uiterstes: die toereikendheid versus die ontoereikendheid van haar woorde. Soms proe sy met verligting die “heuning”, ander kere slegs die “menssweet” “Taal” (Die Somerjood, 1980:8).

Maar dit bly vir haar ’n ewige soeke na die woord wat soos ’n “vangriem” kan “adder / om selfs die skof van die melkwit Bees” (Die knetterende woord, 1990:14).

 

Bibliografie

Alter, R. 1975. Partial magic: The novel as self-conscious genre. Berkeley: University of California Press.

Bertens, H. en T. D’haen. 1988. Het postmodernisme in de literatuur. Amsterdam: De Arbeiderspers.

Borges, J.L. en N.T. di Giovanni. 1997. The mirror and the mask. The New Yorker, 3 Mei 1997, bl. 33.

Bowra, C.M. 1949. The creative experiment. Londen: Macmillan.

Cirlot, J.E. 1984 [1962]. 4de uitgawe. A dictionary of symbols. Londen: Routledge & Kegan Paul.

Cussons, S. 1970. Plektrum. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1978. Die swart kombuis. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1979a. Die skitterende wond. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1979b. Die sagte sprong. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1980. Die Somerjood. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1981. Die woedende brood. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1983. Verwikkelde lyn. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1990. Die knetterende woord. Kaapstad: Tafelberg.

De Vries, A.B. 1939. Jan Vermeer van Delft. Amsterdam: Meulenhoff.

Die Bybel in Afrikaans. 1983. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Eliot, T.S. 1962. Gedichten / toneel en essays. Haarlem: De Toorts.

Evans, I.H. 1990 [1870]. 14de uitgawe. Brewer’s dictionary of phrase and fable. Londen: Cassell.

Gilfillan, F.R. 1984. Geel grammofoon. Perspektiewe op die werk van Sheila Cussons. Kaapstad: Tafelberg.

Grové, A.P. 1966. Smal swaard en blink. Pretoria en Kaapstad: Academica.

HAT (Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal). 1994 [1965]. Doornfontein: Perskor.

Hutcheon, L. 1984 [1980]. Narcissistic narrative. The metafictional paradox. New York en Londen: Methuen.

Jung, C.G. 1941. The integration of the personality. Londen: Kegan Paul, Trench, Trubner.

Jung, C.G. (red.). 1964. Man and his symbols. Londen: Picador.

Kannemeyer, J.C. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2. Pretoria: Academica.

Lacey, A.R. 1976. A dictionary of philosophy. Londen: Routledge & Kegan Paul.

Louw, N.P. Van Wyk. 1941. Raka. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1962. Tristia. Kaapstad: Human en Rousseau.

Lu, F-P. 1966. T.S. Eliot: The dialectical structure of his theory of poetry. Chicago: University of Chicago Press.

Lucy, S. 1960. T.S. Eliot and the idea of tradition. Londen: Cohen and West.

Rylands, G.H.W. 1928. Words and poetry. Londen: Hogarth Press.

Scholtz, A. 1991. Skepper en skepping: Die visuele as essensiële element in die poësie van Sheila Cussons. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Smith’s Bible Dictionary. s.j. Nashville: Holman Bible.

Stead, C.K. 1998. The New Poetic. Yeats to Eliot. Londen: The Athlone Press.

Supplement to the English Oxford Dictionary. 1976. Londen: Birchfield.

Van Leeuwen, F. 2010. Geestkunde. Maastricht: Boekenplan.

Vestdijk, S. 1956 [1943]. 2de uitgawe. De glanzende kiemcel. Beschouwingen over poësie. Amsterdam: De Driehoek.

Warrington, J. 1970. Everyman’s classical dictionary. Londen: J.M. Dent & Sons.

Waugh, P. 1984. Metafiction. The theory and practice of self-conscious fiction. Londen, New York: Routledge.

Webster’s encyclopedic unabridged dictionary of the English language. 1989. New York: Gramercy Books.

Weima, J. 1981. Reiken naar oneindigheid. Inleiding tot de psychologie van de religieuze ervaring. Baarn: Ambo.

WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal). 1970. Vol. 1—9. Pretoria: Die Staatsdrukker.

Wilson, C. 1970. Poetry and mysticism. Londen: Hutchinson.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Kunstenaar en skepping: Sheila Cussons en die problematiek van die kunstenaar appeared first on LitNet.


Taal-in-onderwys-beplanning in die Noord-Kaap en Vrystaat. ’n Beoordeling van twee taalverwerwingsprogramme in skole 

$
0
0

Taal-in-onderwys-beplanning in die Noord-Kaap en Vrystaat. ’n Beoordeling van twee taalverwerwingsprogramme in skole 

Jani de Lange en Theodorus du Plessis, Departement Suid-Afrikaanse Gebaretaal en Dowestudies, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 17(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Taal-in-onderwys (TiO)-beplanning (ook taalverwerwingsbeplanning genoem) word beskou as ’n kragtige gebied waarop taalverandering bewerkstellig kan word. Die TiO-beplanningsinisiatief wat in hierdie artikel oorweeg word, is die Incremental Introduction of African Languages (IIAL) van 2013, wat tussen 2015 en 2018 geloods is. Hierdie inisiatief is in wese ’n tipiese regeringgeborgde taalbevorderingsprojek wat deur die onderwysdepartement geloods is om taalverspreiding te bewerkstellig. Twee hedendaagse gevallestudies word in hierdie artikel bespreek: Sotho as ’n tweede addisionele taal in Vrystaatse skole en Nama as tweede addisionele taal in Noord-Kaapse skole; eersgenoemde as kurrikulêre en laasgenoemde as ekstrakurrikulêre aktiwiteit. In die eerste gevallestudie poog die IIAL om die prestige van die voorheen gemarginaliseerde “Afrikatale” te bevorder, en in die tweede gevallestudie voorspel die konsepbeleid die herlewing van Nama as erfenistaal. Alhoewel dit een beleid met twee verskillende implementeringsmotiewe is, verskil die twee studies van mekaar. Albei het uitdagings met betrekking tot taalstatusse, maar die fokus van eersgenoemde is op taalonderhoud en taalverspreiding, terwyl laasgenoemde op taalherlewing fokus. Verder verskil die studies ten opsigte van taalverwerwing – in die Sotho-projek kom vreemdetaalverwerwing ter sprake, maar in die Nama-projek die verwerwing van wat die betrokkenes ’n erfenistaal noem. Die motivering vir die twee inisiatiewe, naamlik sosiale samehang en die herlewing van ’n taal, is ook ’n prominente verskil. Gegewe die verskille en ooreenkomste, is die doel van hierdie artikel om die verband tussen taalbeplanningsdoelwitte, taalplanne en taalbeplanningsprogramme te oorweeg. Hierdie verband word bespreek deur die IIAL en die implementering van die beleid by gekose skole in die Kopanong-streek in die Suid-Vrystaat en by twee Noord-Kaapse skole te bestudeer. Kaplan en Baldauf Jr. (2003:201–2) se uitgebreide raamwerk vir taalbeplanningsdoelwitte word as vertrekpunt vir hierdie vergelykende studie gebruik. Die klem van die huidige studie val op die ontleding van dokumentêre bewyse insake beleide en beplanningsaktiwiteite by die geteikende skole, asook die vasstelling van die mate van samehang tussen beleidsdoelwit, beleidsplan en beleidspraktyk. Hierdie soort ontleding kan help met die opsporing van enige moontlike swakhede in die program wat die algemene doelstellings en implementering van genoemde inisiatiewe kan ondermyn.

Trefwoorde: Nama-verwerwing; Sotho-verwerwing; taal-in-onderwys-beplanning

 

Abstract

Language-in-education planning in the Northern Cape and Free State. An assessment of two language acquisition programmes in schools

Language-in-education planning (also known as language acquisition planning) is seen as a powerful area of planned language change. The language-in-education planning initiative considered in this article is the 2013 Incremental Introduction of African Languages (IIAL), launched between 2015 and 2018. This initiative is essentially a typical government-sponsored language promotion project launched by the Department of Education to promote language distribution. Two contemporary case studies are discussed in this article: Sotho as a second additional language in Free State schools, and Nama as a second additional language in Northern Cape schools; the former as a curricular and the latter as an extracurricular activity. In the first case study, the IIAL seeks to promote the prestige of the previously marginalised “African languages”, and in the second case study the draft policy predicts the revival of Nama as a heritage language. Although it is one policy with two different implementation motives, the two studies differ. Both have challenges in terms of language statuses, but the focus of the former is on language maintenance and dissemination, while the latter focuses on language regeneration. Furthermore, they differ in terms of language acquisition. In the Sotho project, foreign language acquisition is considered, but in the Nama project it refers to the acquisition of what the involved community call a heritage language. The motivation for the two initiatives, namely social cohesion and the revival of a language, is also a prominent difference. Given the differences and similarities, the purpose of this article is to consider the relationship between language planning goals, language plans, and language planning programmes. This connection is discussed by studying the IIAL and the implementation of policy at selected schools in the Kopanong region of the Southern Free State and at two Northern Cape schools. Kaplan and Baldauf Jr’s (2003:201–2) extended framework for language planning goals is used as a departure point for this comparative study.

The emphasis of this article is on policy design and, as such, on an analysis of relevant archival documents to gain access to two language implementation projects. This review refers to the design of appropriate policies regarding the acquisition of additional languages within the South African education system. In the case of Nama, the design stems from a non-language-planning document (a partnership agreement between the southern region of Namibia and the Northern Cape) and in the case of Sotho, from an official national language planning document (the IIAL).

Based on the framework for language planning goals (Kaplan and Baldauf Jr 2003:201–2), it was established that the necessary policy mechanisms are indeed in place to ensure success in acquiring the targeted additional languages. These policy mechanisms are found in various national policy documents within education, including the National Curriculum Statement (NCS) and related documents. As an overall policy document, the NCS makes sufficient provision for the acquisition of the second additional language (SAL). It spells out what outcomes are relevant, and provides guidance to schools regarding curriculum content, methods and materials, as well as who can and should participate in the programme concerned. Specifically, the relevant Curriculum and Assessment Policy Statement (CAPS) document (for SALs) plays a central role in this, but in conjunction with other policy documents regarding the funding of such programmes, appropriate resources, and access to education in general.

One of the gaps in policy mechanisms that has been identified is the relative absence of community policy, a shortcoming that, according to Kaplan and Baldauf Jr (2003:219), is a frequent occurrence. Nevertheless, it has been established that community involvement is a factor to consider, as can be seen in the relative success achieved with the Nama programmes.

Some design challenges that need further attention have been identified. One of the most important of these is the fact that Nama has not yet been institutionalised as SAL and that the implementation of the IIAL is not running smoothly; this following the study of the implementation of Sotho as Second Additional Language in Philippolis. The problems encountered with suitable teaching and learning material in particular pose a major challenge that deserves urgent attention. Nevertheless, it would be ideal to set up a heritage language category in the language curriculum.

In the end, the investigators were able to identify factors that could play a role in the successful implementation of Nama as extracurricular SAL in Northern Cape schools and Sotho as SAL under the IIAL in Philippolis. It seems that the necessary policies to ensure success exist, especially in the case of the Sotho project, but that gaps exist regarding its implementation. The same cannot be said of the Nama project, but it seems that this gap can be overcome by the enthusiastic cooperation of the community and decision makers. This striking difference between the two projects suggests that motivation is ultimately a significant variable that should be taken into account and which the framework for language planning goals does not provide for. Further studies can be done to research this aspect in light of the important work of Ager (2001) on motivation in language planning and determine how it links with language acquisition planning. However, in the end, the success of such a language acquisition programme is determined by its outcome, i.e. whether or not the learners acquire the necessary language skills. This aspect was also not addressed in the present study and certainly requires further investigation.

Keywords: language-in-education planning; Nama acquisition; Sotho acquisition

 

1. Inleiding

Volgens McCarty (2011:163) bied die implementering van taalbeleide in die onderwyssektor verskeie uitdagings, veral wanneer gemarginaliseerde en inheemse tale betrokke is. Artikel 6(2) van die Suid-Afrikaanse Grondwet verwys na Suid-Afrikaanse tale waarvan die gebruik en status histories “ingekort” is (tegnies gesproke dus gemarginaliseerde tale) ook as inheemse tale. ’n Verdere onderskeid in artikel 6(5) tussen minderheidstale (Holness 2016:175) en erfenistale (DKK 2003) suggereer dat artikel 6(2) spesifiek na gemarginaliseerde inheemse tale verwys, dit wil sê die sogenaamde Sintoetale1 en die sogenaamde Khoi-tale. (Grondwetlik gesproke word laasgenoemde groep tale dus nie ooglopend as erfenistale beskou nie. Desnieteenstaande gebruik mense soms hierdie term om ook na Suid-Afrika se inheemse tale te verwys.) Die Grondwet se omskrywing van inheemse tale klop daarom nie noodwendig met die Verenigde Nasies (VN) se definisie van inheemse groepe nie:

[T]hose who were living on their lands before settlers came from elsewhere, and who are descendants of those who inhabited a country or a geographical region at a time when people of different cultures or ethnic groups arrived (sien Spolsky 2011:154).

Van die uitdagings vir taalbeleidsimplementering hou verband met onderwysers se toegewydheid en bereidheid om ’n gepaste taalprogram te ontwikkel, die gemeenskap se bereidheid om hiermee te help, en natuurlik die waarskynlike tekort aan onderrigmateriaal asook aan moedertaalonderwysers. Dit is omdat daar nie altyd noodwendig ’n nasionale kurrikulum vir die onderrig van hierdie tale bestaan nie. Tog meen McCarty dat die uitdagings oorkom kan word. Daar moet ten minste twee sentrale faktore wat by suksesvolle implementering geld in gedagte gehou word, te wete die rasionaal vir die implementering van sodanige taalbeleid (veral ten opsigte van die verwerwingsdoelwit van die taalbeleid), asook die mate van samewerking en ondersteuning deur die wyer gemeenskap, veral waar daar geen nasionale kurrikulum bestaan nie. Volgens McCarty (2011:174) kan geen onderwysstelsel ’n taalprogram in isolasie ontwikkel of ’n taal by wyse van spreke red nie; dit kan hoogstens ’n platform skep vir taalbeplanning binne die taalonderrigsituasie wat kan uitloop op die verbetering van die status van die gemarginaliseerde tale.

Spolsky (2011:158) ondersteun McCarty se siening en verduideliking dat gemarginaliseerde tale wel kan baat by die taalverwerwingsfunksie in skole, maar dat skole op hulle eie nie sodanige beplanning kan behartig nie. ’n Skool benodig die ondersteuning van ’n regering of van internasionale instansies, asook die inkoop van die groter gemeenskap. Hierdie tipe samewerking tussen verskeie rolspelers kan die verspreiding en herlewing van ’n taal help bewerkstellig.

McCarty en Spolsky se sienings het relevansie vir ’n unieke verskynsel wat tans in die Suid-Afrikaanse onderwys met betrekking tot georkestreerde ingrypings deur die onderwysdepartement rondom voorheen gemarginaliseerde tale waarneembaar is. Twee koerantberigte wat aan die begin van 2018 verskyn het, het die aandag van die ondersoekers gevestig op sulke inisiatiewe in die streek: die een behels die aanbied van Nama in Noord-Kaapse skole en die ander die aanbied van Sotho2 in Vrystaatse skole.

Boipelo (2018) berig op 31 Januarie 2018 oor die bekendstelling van ’n Nama-program by ’n skool in die Noord-Kaapse dorpie Riemvasmaak. Daar word te kenne gegee dat Angie Motshekga, die Minister van Basiese Onderwys, toestemming aan die Nama-gemeenskap verleen het om die aanleer van Nama as ’n ekstrakurrikulêre (buitemuurse) inisiatief in te stel aangesien Nama nie as ’n addisioneletaalopsie binne die huidige skoolkurrikulum bestaan nie. Sy beklemtoon dat Nama inheems is aan die Noord-Kaap en dat die gemelde program deel vorm van ’n oorhoofse visie om die ryk geskiedenis en erfenis van die Noord-Kaapse gemeenskap te versterk en te beskerm. Boipelo (2018) berig verder:

The addition of Nama will be boosted by the Northern Cape Government’s standing twinning agreement with the Namibian //Kharas Region, of which Education forms a critical part. Specific focus will be put on the development of the Nama language.

Mentz (2018) berig op 22 Februarie 2018 oor die bekendstelling van ’n opvoedkundige werkboekreeks vir Sotho as tweede addisionele taal (TAT) vir Vrystaatse skole. Al word Sotho sedert 2015 as verpligte TAT aan Vrystaatse skole aangebied, bestaan daar onvoldoende onderrigmateriaal vir hierdie vak vir sowel die onderwysers as die leerders. Drie Afrikaanstalige Sotho-onderwysers, wat dié taal as kinders aangeleer het, het op eie inisiatief ’n werkboekreeks vir graad 1 tot 3 ontwikkel om die leemte te vul (sien Van der Merwe, Aldrich en Oosthuizen 2017).

Daar kan uit die eerste berig afgelei word dat die betrokke Nama-inisiatief as ’n Departement van Basiese Onderwys (DBO)-gesanksioneerde gemeenskapsprogram beskou kan word, wat ’n mate van orkestrasie impliseer. Ofskoon die tweede berig nie spesifiek na enige departementele betrokkenheid verwys nie, weet ondersoekers in Suid-Afrika dat die Vrystaatse Onderwysdepartement ingevolge die DBO se Incremental Introduction of African Languages-(IIAL)-program (DBO 2013) Sotho sedert 2015 as TAT in staatskole begin implementeer het; dit wil sê by skole waar die taal nie reeds aangebied word nie. Hierdie program is in 2013 nasionaal bekendgestel en word sedert 2014 in skole regoor die land geïmplementeer. Volgens Maboya (2017:20) is die program teen 2017 al in 131 Vrystaatse skole geïmplementeer, wat 89% van die geteikende provinsiale skole verteenwoordig. Die tweede berig verwys dus pertinent na ’n georkestreerde taalverwerwingsprojek.

Die twee situasies soos hier bo beskryf illustreer McCarty (2001:163, 174) se waarnemings oor die bekendstelling van taalprogramme in gemarginaliseerde tale. Van die kwessies wat onmiddellik uitstaan, is die tekort aan gepaste onderrigmateriaal en die mate van toegewydheid by sowel onderwysers as die gemeenskap. Wat opvallend is, is dat daar sprake is van ’n inherente verskil tussen die implementering van Nama as addisionele taal in Noord-Kaapse skole en die implementering van Sotho as addisionele taal in Vrystaatse skole. In die geval van Nama is daar te make met ’n gemeenskapsprojek wat kennelik die DBO se goedkeuring en steun geniet, terwyl daar in die geval van Sotho uit en uit te make is met ’n taalverpligting as DBO-inisiatief. Dit lyk gevolglik asof daar in taalbeplanningsterme onderskei kan word tussen twee wesenlik verskillende benaderings: onder-na-bo-taalbeplanning (“bottom-up”) in die geval van die Nama-projek, wat meestal deur die gemeenskap gedryf word (vanaf die sogenaamde voetsoolvlak) en bo-na-onder-taalbeplanning (“top-down”) in die geval van Sotho as verpligte addisionele taal in die Vrystaat (en ander Sintoetale regoor Suid-Afrika oor die algemeen); soos van regeringskant af voorgeskryf. Nog ’n opvallende verskil is dat, ofskoon beide projekte met taalverwerwing verband hou, die aard daarvan ingrypend verskil. In die geval van Nama as addisionele taal gaan dit oor die vrywillige herverwerwing van ’n erfenistaal deur ’n gemeenskap wat emosionele bande met die taal het, terwyl in die geval van Sotho as addisionele taal dit gaan oor die verpligte verwerwing van ’n derde amptelike taal deur burgers wat die taal nie ken nie.

Vanuit ’n taalbeplanningsoogpunt beskou laat hierdie verskille en ooreenkomste tussen twee oënskynlik verwante addisioneletaalprojekte interessante vrae ontstaan oor die aard van taal-in-onderwys-beplanning as unieke vorm van taalbeplanning. Omdat dit wil voorkom asof gemeenskapsbetrokkenheid ’n kernrol kan speel, maar die rol van die betrokke staatsdepartement ook nie buite rekening gelaat moet word nie, is dit belangrik om vas te stel watter faktore inderdaad in die onderhawige gevalle deurslaggewend kan wees by die verwesenliking van die onderliggende oogmerke. Kan daar byvoorbeeld op grond van sulke faktore voorspel word wat elkeen van die twee projekte se kans op sukses sal wees? Kan daar verder voorspel word watter faktore ’n deurslaggewende rol kan speel?

Die doel van hierdie artikel is daarom om faktore te identifiseer wat ’n sentrale rol kan speel by die suksesvolle implementering van ’n taalverwerwingsprojek op skoolvlak en om dan op grond daarvan die twee projekte se kanse op sukses te bepaal. So ’n studie kan ’n bydrae lewer tot beleidsbeplanning (en beleidsontwerp) met betrekking tot taalverwerwing binne skoolverband, en kan ook van waarde wees vir beleidmakers.

 

2. Taalverwerwingsbeplanning

Taalbeplanning speel ’n groot rol in die onderwysdomein, veral in ontwikkelende lande. Kaplan en Baldauf Jr. (1997:8) waarsku egter dat as gevolg van beperkte mag en hulpbronne daar nie onredelike verwagtinge hieraan gestel moet word nie, omdat onderwys in werklikheid ’n beperkte invloed op nasionale taalbeleid uitoefen. Kamwangamalu (2011:136) benadruk nietemin die uiteindelike rol van die onderwysdomein as agent van verandering, ook wat betref die kultivering van taalvaardighede en -houdings wat (onvermydelik) mettertyd uitloop op taalhiërargisering.

Kaplan en Baldauf Jr. (2003:202) se raamwerk vir taalbeplanningsdoelwitte naas status-, korpus- en prestigebeplanning maak voorsiening vir taal-in-onderwys-beplanning, oftewel taalverwerwingsbeplanning. Dit is ’n taalbeplanningsbenadering wat verband hou met daardie opvoedkundige maatreëls wat individue of gemeenskappe benodig om die soort taalvaardigheid te ontwikkel (en te handhaaf) wat gepas is vir ’n gegewe taalomgewing of -ekologie (Kaplan en Baldauf Jr. 2003:217). Dit is verder ’n benadering wat beplanning binne die onderwyssektor verg, enersyds oor die verskillende beleidsaspekte wat nodig is om hierdie oorhoofse oogmerk te kan bereik en andersyds oor wat nodig is om die gepaste leerprogramme om verskillende redes en vir verskillende agtergronde te ontwikkel (Kaplan en Baldauf Jr. 2003:220; Hornberger 2006:32).

Van die oogmerke vir taalverwerwingsbeplanning behels onder meer die besluit oor wie watter taal of tale binne onderwysverband moet aanleer (toegangsbeleid); watter kurrikulum hiervoor gevolg moet word (kurrikulumbeleid); watter metodiek en materiaal aangewend moet word (metodiek- en materiaalbeleid); hoe die beleidsimpak beoordeel en gemeet moet word (evalueringsbeleid); watter tipe onderrigpersoneel benodig word en die kriterium vir hulle werwing (personeelbeleid); asook watter soort programme watter uitwerking het ingevolge nasionale vereistes (hulpbronverkryging) (Hornberger 2006:32). Kultiveringsbeplanning, daarenteen, behels die ontwikkeling van programme met die oog op die handhawing van die eerste taal asook ooreenkomstig die nasionale prioriteite met die oog op tweede- en vreemdetaalverwerwing. Waar dit ’n prioriteit is dat leerders ’n spesifieke onderwystaal as eerste taal moet aanbied, word die ontwikkeling op taalverskuiwing binne onderwysverband afgestem. Dit gebeur in gevalle waar ’n algemene kommunikasietaal as prioriteit geag word. Soms verg die herverwerwing van sekere tale ook ontwikkeling, veral in die geval waar taalherlewing byvoorbeeld ’n oogmerk is. Taalherlewing kan verband hou met taalherstel, taalhervitalisering of taalomkering; oogmerke wat strewe na die verbetering van die sosiale status en funksies van tale waar taalverlies binne die betrokke taalgemeenskappe voorkom (Kaplan en Baldauf Jr. 2003:205). Hornberger (2006:32–33) bring dit onder die ondersoeker se aandag dat die taalbeplanningsdoelwitte selde in isolasie nagestreef word en dat die intervensies binne een van die benaderings kan bydra tot die aksies binne ’n ander. Intervensies binne die onderwysdomein kan byvoorbeeld bydra tot die verdere ontwikkeling van ’n taal en sodoende bydra tot die taal se status binne die groter gemeenskap.

Die twee taalinisiatiewe in die Noord-Kaap en die Vrystaat kan beide op grond van hulle institusionalisering as taalverwerwingsprojekte geïdentifiseer word. In die geval van Nama word die program gerig op leerders wat ’n kulturele band met Nama het, grootliks as gevolg van hulle herkoms. As sodanig kon hier eerder na ’n taalherverwerwingsprojek verwys word, omdat die herverwerwing van ’n inheemse taal (of, volgens die betrokkenes, erfenistaal) deur middel van ’n nasionale kurrikulum baie pertinent die oogmerk is.

Taalverwerwingsbeplanning vloei in hierdie geval ten nouste voort uit ’n statusbeplanningsprogram wat die herlewing van Nama onder voormalige Nama-sprekendes in gedagte het. In die geval van Sotho in Philippolis is taalherlewing nie die oogmerk nie, maar is (verpligte) taalverspreiding eerder die oorhoofse ideaal. As gevolg van hierdie nuanserings is dit belangrik dat ’n beskrywing van elk van die gevalle op grond van oorwoë maatstawwe onderneem word. Een moontlike benadering in hierdie verband is om die verskillende aspekte van beleidsbeplanning hier bo as “beleidsmeganismes” te beskou; dit wil sê meganismes wat nodig is om die oorhoofse oogmerk van verworwe taalbevoegdheid tot stand te bring. Hierdie beleidsmeganismes kan dan as vergelykingsbasis aangewend word by die beskrywing van die twee gevalle.

 

3. Metodologie

Vir Kaplan en Baldauf Jr. (2003:217) behels taalbeplanning in die onderwys primêr die ontwikkeling van gepaste beleide, wat sal help verseker dat taalvaardigheidsontwikkeling inderdaad plaasvind en oorhoofse programoogmerke bereik word. Sodanige oogmerke hoef nie slegs op taalverwerwing betrekking te hê nie en spruit dikwels voort uit oorhoofse taalstatusoogmerke. By ’n studie van taalverwerwingsbeplanning is dit nietemin belangrik om te onderskei tussen beleidsontwerp en beleidsuitkomste. ’n Koherente samehang tussen hierdie twee elemente kan ’n aanduiding gee van die mate van sukses wat met ’n spesifieke program bereik (kan) word. Die artikelskrywers se raamwerk vir taalbeplanningsdoelwitte (Kaplan en Baldauf Jr. 2003:201–2) identifiseer, wat taalverwerwingsbeplanning betref, die kernelemente van ’n beleidsraamwerk wat tot die suksesvolle verwerwing van ’n addisionele taal aanleiding kan gee en bied daarom ’n geskikte ontledingsbasis wat die beleidontwerpsaspek betref. ’n Ondersoek na beleidsuitkomste val buite die kader van sodanige ontleding en vereis ’n andersoortige metodologie.

Die klem in die studie wat hier onderneem word, val op die ondersoekende element van die etnografie van taalbeleid en taalbeplanning (McCarty 2015:85), wat in hierdie geval ’n argivale studie behels. Hierdie argivale studie word gerig op die ontleding van ’n korpus beleidsdokumente wat betrekking het op die beplande verwerwing van ’n addisionele taal binne die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel. Om triangulasie te bewerkstellig en sodoende geloofwaardige bevindings te probeer verseker, is die twee ander elemente van etnografiese navorsing3, dit is navraagdoening (deur middel van onderhoude) en waarneming, ook betrek. Die etnografie van taalbeleid en taalbeplanning behels ’n studie van hierdie elemente as gesitueerde sosiale prosesse wat praktyke, houdings en meganismes behels om taalgebruikers se taalkeuses op ’n oortuigende manier te beïnvloed. So ’n etnografiese benadering is in die geval van hierdie ondersoek na twee skoolprojekte relevant om die tersaaklikheid van kernbeleidsdokumente te verifieer.

Die argivale studie wat hier onderneem is, berus primêr op die identifisering en ontleding van dokumente wat vanuit ’n taalbeleid- en beplanningsperspektief ter sake is. By die identifisering van tersaaklike dokumente is die raamwerk vir taalbeplanningsoogmerke as rigtinggewend beskou.

Waar taalprojekte soos die betrokke Nama- en Sotho-projekte ter sprake kom, word in die eerste plek oorhoofs gekyk na dokumente wat met die werklike totstandkoming van die projekte te make het. Dit is dokumente wat streng gesproke op taalstatusbeplanning betrekking het en waarin taalverwerwingsoogmerke eintlik ’n ondergeskikte rol speel. Daar kan na hierdie dokumente as instaatstellende dokumente of selfs taalpolitieke dokumente verwys word. Twee sodanige dokumente kon geïdentifiseer word, soos die inventaris hier onder aandui; die een met betrekking tot die oprigting van die provinsiale Nama-projek en die ander met betrekking tot die oprigting van ’n nasionale projek waarvan die Sotho-projek deel vorm.

In die tweede plek kan daar gelet word op meer tegniese dokumente wat spesifiek met taalverwerwingsbeplanning te make het; dit wil sê beleidsbepalende dokumente (toegangsbeleid, kurrikulumbeleid, ensovoorts) wat betrekking het op kultiveringsbeplanning ten opsigte van ten minste twee aspekte, te wete taalherverwerwing (in die Nama-geval) en vreemdetaalverwerwing (in die Sotho-geval). Drie tipes tekste is as beleidsbepalend geïdentifiseer, soos hier onder aangedui word, te wete sentralebeleidsdokumente, taalbeleidsdokumente en kurrikulumdokumente.

In die derde plek is evaluerende dokumente geïdentifiseer. Dit is nasionale dokumente waarin aspekte van onderwys-, taal- en kurrikulumbeleid geëvalueer word. Soos hier onder aangedui, is twee sodanige dokumente geïdentifiseer.

Die gemelde drie kategorieë dokumente is opvallend ten nouste verweef met die ontplooiing van die twee projekte, vandaar die noodsaak aan dokumente wat buite die proses staan. Hierdie dokumente word beskou as onafhanklike dokumente (onbetrokke bronne) soos mediatekste en beleidsadvies. Verskeie mediatekste is geïdentifiseer, asook een relevante dokument wat beleidsadvies bevat.

Deur middel van hoofsaaklik internetsoektogte en interaksie met kernrolspelers kon die volgende korpus dokumente vir ontledingsdoeleindes op grond van die gemelde onderskeidings saamgestel word:

Instaatstellende dokumente:

  • Memorandum of understanding between Northern Cape Provincial Government and //Kharas Region in Namibia (sien PNC 2019:245)
  • The Incremental Introduction of African Languages in South African schools. Draft Policy: September 2013 (DBO 2013)

Beleidsbepalende dokumente:

  • Sentralebeleidsdokumente:
    • Suid-Afrikaanse Skolewet, 1996 (RSA 1996a)
    • Wet op Nasionale Onderwysbeleid, 1996 (RSA 1996b)
    • National Norms and Standards for School Funding (DvO 1998)
    • The National Policy on Whole-School Evaluation (DvO 2002)
  • Taalbeleidsdokumente:
    • Language in education policy (DvO 1997)
    • English Second Additional Language, Curriculum Assessment Policy Statement Foundation Phase: Grades 1–3. Draft copy. National Curriculum Statement (DBO 2016)
  • Kurrikulumdokumente:
    • National policy pertaining to the programme and promotion requirements of the National Curriculum Statement Grades R–12 as revised November 2015 (DBO 2015)4
    • CAPS for Foundation Phase. Retrieved from Curriculum Assessment Policy Statements (CAPS) (DBO 2018)

Evaluerende dokumente:

  • The status of the language of learning and teaching (LOLT) in South African public schools. A quantitative overview (DBO 2010)
  • Report on the Implementation Evaluation of the National Curriculum Statement Grade R to 12 Focusing on the Curriculum and Assessment Policy Statements (CAPS). Full Report 25 May 2017 (DBME en DBO 2017)

Onafhanklike dokumente:

  • Basic education rights handbook. Education rights in South Africa (Veriava, Thom en Hodgson 2017; in die besonder hoofstuk 3 – sien Mansfield-Barry en Stwayi 2017, wat handel oor skoolbeheer)
  • Verskeie mediatekste oor veral die Noord-Kaapse projek

Een van die primêre oogmerke by die ontleding van hierdie stel dokumente was om inligting te bekom rakende die kultiveringsbeplanning wat met betrekking tot die verwerwing van Nama en Sotho as addisionele taal onderneem word, maar ook met betrekking tot die verskillende aspekte van beleidsbeplanning, te wete toegangsbeleid, personeelbeleid, kurrikulumbeleid, ensovoorts, wat voorkom. Die ontleding van die instaatstellende dokumente is onderneem om lig te werp op die oorhoofse oogmerke met die beoogde taalverwerwingsbeplanning. Waarom is die spesifieke projekte aangepak? Vanweë die wyse waarop onderwys in Suid-Afrika georganiseer word, is ’n verdere ontleding van beleidsbepalende dokumente onderneem om lig te werp op die raamwerk met betrekking tot taalverwerwingsbeplanning wat in die spesifieke gevalle onderneem word, asook watter rolspelers vir watter aspekte daarvan verantwoordelik is.

Drie soortgelyke skole is vir die doeleindes van hierdie ondersoek as navorsingsterreine geïdentifiseer. Die twee skole waar die DBO-gesteunde Nama-projek loop, is Riemvasmaak Primêre Skool in die dorpie Riemvasmaak (694 inwoners) in die Noord-Kaap en Johan Hein Primêre Skool in Kuboes, Richtersveld (948 inwoners). Die derde skool is een van die Vrystaatse skole waar die IIAL sedert 2015 geïmplementeer word, naamlik Bergmanshoogte Intermediêre Skool in Philippolis (950 inwoners) (sien Maboya 2017). As Afrikaanssprekende inrigting is Bergmanshoogte Intermediêre Skool ’n tipiese voorbeeld van ’n skool waar die leerders nie noodwendig Sotho ken nie en waar die implementering van die IIAL dus kennis van die taal kan bevorder. Dit is ook een van die skole waarmee die Universiteit van die Vrystaat sedert 2006 deur middel van die sogenaamde Khula Xhariep-vennootskap (UV 2006:85) en sedert 2011 deur middel van die Multilingual Information Development Programme (Du Plessis 2014) ’n besondere verhouding het en waartoe die ondersoekers geredelike toegang het.

Riemvasmaak en Kuboes huisves hoofsaaklik bruin gemeenskappe en is aangrensend tot Namibië langs die Oranjerivier geleë. Riemvasmaak lê tussen Kakamas, Keimoes en Upington, terwyl Kuboes naby Alexanderbaai lê. Volgens die 2011-sensusopname is 95,39% van Riemvasmaak en 96,41% van Kuboes se inwoners Afrikaanssprekend (Frith 2011a; Frith 2011b). Philippolis is ’n klein plattelandse dorp digby die Oranjerivier, maar ongeveer 800 km verder suid tussen Trompsburg en Colesberg in die Suid-Vrystaat geleë. Volgens die betrokke sensusgegewens is 83,23% van hierdie dorp se 950 hoofsaaklik bruin inwoners Afrikaanssprekend (Frith 2011c). Uit vorige ondersoeke (De Lange 2012; Kotze 2009) in die betrokke gebied is vasgestel dat die inwoners twee- of drietalig is en dat hulle unieke kommunikasiekonvensies handhaaf as gevolg van die teenwoordigheid van ander tale soos Sotho (7,6%), Engels (3,9%) en Xhosa (2,8%) (sien Kotze 2009; StatsSA 2016).

Dit is noodsaaklik om dokumente ook op mikrovlak te identifiseer om die ontplooiing van die betrokke twee inisiatiewe teen die agtergrond van hierdie oorhoofse beleidsraamwerk te kan rekonstrueer. Hier word verwys na dokumente wat deur die betrokke skole en hulle skoolbeheerrade gegenereer is. Hierdie dokumente kan as skoolgegenereerde dokumente rakende die twee taalverwerwingsprogramme getipeer word. Ongelukkig kon nie een van die drie skole, ten spyte van herhaalde navrae, sodanige dokumentasie verskaf nie. Segspersone het die ondersoekers na die oorhoofse dokumente verwys. Ten einde hierdie inligtingsgaping te probeer oorbrug, was die ondersoekers verplig om onderhoude met rolspelers by die betrokke skole te voer, asook om waarnemings te doen.

Onderhoude is gevoer met die skoolhoofde van Riemvasmaak Primêre Skool (21 Februarie 2018) en Johan Hein Primêre Skool (22 Februarie 2018), asook van Bergmanshoogte Intermediêre Skool (25 April 2017; 26 April 2018). Verder is onderhoude ook gevoer met die twee Nama-taalfasiliteerders van Riemvasmaak Primêre Skool (21 Februarie 2018) en met die Sotho-onderwyser en -taalfasiliteerder van Bergmanshoogte Intermediêre Skool (26 April 2018; November 2018).

Een van die ondersoekers het vooraf telefonies met die onderwysdepartement in Springbok hieromtrent gekommunikeer en toestemming verkry om die skole te besoek en onderhoude met segspersone te voer. Die betrokke ondersoeker is tydens die projekloodsing aan die betrokke gemeenskappe bekendgestel. Almal is in die teenwoordigheid van die ondersoeker ingelig omtrent die studie wat onderneem word. Hierbenewens is ook die Namakwa-kurrikulumontwikkelaar telefonies gekontak en toestemming is verkry om Laerskool Riemvasmaak te besoek, asook om die projekloodsing by Johan Hein Primêre Skool in Kuboes (Cloete 2018b) by te woon. Die skole is daarna telefonies gekontak en afsprake met segspersone is gemaak. Origens is een van die ondersoekers ook uitgenooi om ’n vergadering van die Riemvasmaak Nama-taalontwikkelingskomitee tydens die besoeke by te woon.

In die geval van Philippolis kon die betrokke ondersoeker vanweë ’n langdurige verhouding met die betrokke skool gemaklik toegang tot die skool en toestemming om die ondersoek te onderneem verkry. Beide ondersoekers is reeds sedert 2008 in Philippolis en die omliggende streke betrokke by ’n aantal meertaligheidsprojekte en het oor hierdie tydperk ’n vertrouensverhouding met die betrokkenes opgebou.

Die onderhoude was semigestruktureerd en die response is deur een van die ondersoekers vir latere analise-doeleindes genoteer. Daar is in die onderhoude primêr gekonsentreer op hoekom die spesifieke taalkursus geïmplementeer is, asook hoe die implementering plaasgevind het. Verdere fokus is geplaas op die onderwysers se opleiding, asook op die beskikbaarheid van studiemateriaal. In elke geval is navrae gerig oor ondersteunende dokumentasie. Die onderhoude het baie informeel verloop en die kandidate het gemaklik tersaaklike inligting verskaf. Ter wille van kruiskontrolering van die korrektheid van die verkreë inligting is bykomende telefoniese onderhoude met enkele van hierdie rolspelers gevoer, onder meer met die skoolhoof van Bergmanshoogte Intermediêre Skool en die kurrikulumontwikkelaar van die Namakwa-skooldistrik. Al hierdie onderhoude is gedurende Junie 2018 gevoer. Die onderhoude het gehelp om te probeer vasstel hoe die oorhoofse beleid op skoolvlak verder gevoer word, asook om die praktiese implementering van die betrokke beleide beter te verstaan.

Klaswaarnemings by die onderskeie skole was nie van die begin af beplan nie, maar die ondersoeker is ter plaatse met elke besoek uitgenooi om ’n taalklas by te woon. In die resultate word gevolglik slegs geringe verwysings na hierdie waarnemings gemaak. By Riemvasmaak is op 21 Februarie 2018 een Nama-klas waargeneem. Verder is die bekendstelling van die Nama-projek in Kuboes op 22 Februarie 2018 bygewoon. Daar was geen klas tydens die byeenkoms nie, maar die kinders en die groter gemeenskap het deel gevorm van die byeenkoms. Die ondersoeker is ter plaatse soos volg aan die Kuboes gemeenskap bekend gestel:

Voordat ek vergeet, hier is iemand baie spesiaal wat ek onder u aandag wil bring, me. De Lange van die Universiteit van die Vrystaat. Sy doen ’n research [sic] oor die Nama language [sic]. Ek wil vir haar welkom heet hier in Kuboes en dat sy baie vry sal voel en saam met ons hierdie program sal geniet (Cloete 2018b).

Die ouer gemeenskap het ’n lied in Nama gesing en die skoolgemeenskap het die rieldans ten toon gestel.

In Philippolis is een Sotho-klas op 14 Mei 2018 bygewoon om ooreenkomste en verskille met die Nama-kursus te identifiseer wat aanbieding betref. Daar is vasgestel dat by die Nama-klasse beide die onderwyser en taalfasiliteerder teenwoordig is, terwyl dit nie die geval by die Sotho-klas was nie. Nietemin het hierdie vasstelling nie werklik betrekking op die huidige ondersoek nie.

Uiteindelik was dit op grond van al hierdie ingesamelde inligting moontlik om ’n beeld te kon vorm van die nasionale beleidsraamwerk met betrekking tot die verwerwing van ’n addisionele taal op skool en hoe nasionale beleidsbeplanning ten opsigte van die twee onderskeie taalverwerwingsprojekte op grondvlak verwesenlik word, asook wat daaromtrent in die vooruitsig gestel kan word wat uitkomste betref.

 

4. Resultate van die argivale studie

Die ondersoek het begin met ’n ontleding van die twee instaatstellende beleide, te wete die vennootskapsooreenkoms in die geval van die Nama-inisiatief en die IIAL-dokument in die geval van die Sotho-inisiatief in Philippolis.

Die Nama-projek se oorsprong lê by ’n bilaterale samewerkingsooreenkoms5 tussen die Noord-Kaapse Provinsie en die //Kharas-streeksraad6 van Namibië (PNC 2019:245) wat volgens Cloete (2011) op 14 September 1999 onderteken is. By ondertekening is daarvan uitgegaan dat die ooreenkoms die grondslag sou lê vir samewerking tussen die twee onderskeie streke wat ontwikkeling betref. Vandaar dat vanuit die staanspoor na die ooreenkoms as die sogenaamde “twinning agreement (vennootskapsooreenkoms) verwys word (sien PNC 2019:245). Die kollig val onder meer op samewerking wat betref basiese onderrig, die jeug, sport, kuns en kultuur, en tersiêre onderrig, asook die ontwikkeling van toerisme en die mynbedryf (PNS 2019:245). Samewerking wat betref die verwerwing van Nama as erfenistaal in Noord-Kaapse skole is inbegrepe by die punt omtrent basiese onderrig, soos die Noord-Kaapse premier inderdaad beklemtoon (Swart 2018). Die samewerking het uitgeloop op die bekendstelling van Nama as kurrikulum-ondersteunde vak in verskeie Noord-Kaapse skole, waaronder die huidige twee projekskole (Lucas 2018). In 2011 word die ooreenkoms opnuut bekragtig deur onderskeidelik ’n nuwe goewerneur vir die //Kharas-streek en ’n nuwe premier vir die Noord-Kaap (Cloete 2011), en nogeens in 2017 deur hulle onderskeie opvolgers. By laasgenoemde geleentheid is bekendgemaak dat die ooreenkoms voortaan deur middel van ’n aksieplan geïmplementeer sal word, effektief ’n uitbreiding van die ooreenkoms (Cloete 2017).

Volgens Sylvia Lucas, die vorige waarnemende premier van die Noord-Kaap (April 2013 tot Mei 2019), het die gemelde Nama-inisiatief weens die gebrek aan ’n gestandaardiseerde kurrikulum en die tekort aan ’n toesighoudende liggaam nie heeltemal tot stand gekom soos wat bedoel is nie (Swart 2018). Die hele kwessie het ter sprake gekom by die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) se belangwekkende Indigenous People’s Conference wat op 28 en 29 Junie 2017 by die Universiteit van die Vrystaat gehou is (CALDi 2017). Nketo (2017) skryf dat Pansat by hierdie kongres aangekondig het dat Nama daarna as deel van die amptelike leerplan by twee Noord-Kaapse skole onderrig sou word. Leerkragte sou, volgens Nketo, skynbaar in Namibië en Botswana gewerf word. Hierdie nuwe Nama-inisiatief is volgens Swart (2018) op 29 Januarie 2018 by Riemvasmaak Primêre Skool as die sogenaamde Nama Indigenous African Language Development Programme (NIALDP) bekendgestel. Die projek word voortaan slegs by die twee projekskole geïmplementeer om die projek meer beheerbaar te maak. Die implementering word in direkte samewerking met die Departement van Basiese Onderwys onderneem. Die betrokke premier het pertinent die onderwysdepartement bedank vir hulle integrering van Nama by die bestaande kurrikulum (Lucas 2018). Sy verwys hier waarskynlik na die kurrikulum vir TAT, wat straks ter sprake kom. Ofskoon die vennootskapsooreenkoms nie pertinent in die Curriculum and Assessment Policy Statement (CAPS) vermeld word nie, is dit duidelik uit die mediadekking dat die betrokke besluitnemers die kurrikulumbeleid, in hierdie geval CAPS se verklaring omtrent die TAT, as ’n sentrale deel van die uitvoering van die Nama-inisiatief sien.

Die vennootskapsooreenkoms kan nie as ’n tipiese taalbeplanningsdokument beskou word nie. Dit bevat nie enige direkte bepalings met betrekking tot die Noord-Kaapse Nama-inisiatief nie, maar eerder met betrekking tot verbandhoudende samewerkingsterreine, soos basiese onderwys en kuns en kultuur. Dit is waarskynlik waarom die betrokke owerhede wel die Nama-inisiatief as ’n uitvloeisel van die ooreenkoms voorhou. By die bekendstelling van die “herleefde” Nama-inisiatief in 2018 beklemtoon die betrokke premier juis ingevolge die vennootskapsooreenkoms haar regering se verbintenis tot die bewaring van Suid-Afrika se diversiteit, asook tot die ontwikkeling van die land se inheemse tale, waaronder Nama, !Khun en !Khwe in die Noord-Kaap. Ofskoon taalontwikkeling nie in die raamwerk vir taalbeplanningsoogmerke as ’n spesifieke oogmerk voorkom nie, kan dit nogtans implisiet gekoppel word aan korpusbeplanning. Ofskoon die premier tog met taalontwikkeling deels korpusbeplanning in gedagte het (haar aankondiging oor die vertaling van die Bybel in !Khun) gaan dit by haar nogtans in hoofsaak oor die ontwikkeling van ’n taalkurrikulum vir Nama (met as oogmerk die herverwerwing van hierdie erfenistaal) as ekstrakurrikulêre taalvak (sien Swart 2018; Jones 2019:64).

Vanuit ’n taalbeplanningsoogpunt beskou, het hierdie ontwikkelingsoogmerk direkte betrekking op kurrikulumbeleid as aspek van beleidsbeplanning, ’n kwessie wat straks aan die orde kom.

Laastens moet daar nie uit die oog verloor word nie dat, naas taalherverwerwing, daar verder ’n sterk element van taalstatusbeplanning by die Nama-inisiatief aanwesig is deurdat die herlewing van Nama binne die geteikende gemeenskappe pertinent deur die betrokke owerhede as onderliggende oogmerk voorgehou word. Inligting hieroor kan ook slegs in addisionele bronne gevind word, aangesien die vennootskapsooreenkoms dit nie vermeld nie.

Terwyl die jongste Nama-inisiatief ontstaan het na aanleiding van ’n bilaterale samewerkingsooreenkoms wat terugdateer na 1999, maar sonder ’n taalverwerwingskomponent, vloei die Sotho-inisiatief voort uit die implementering van ’n spesifieke nasionale taalverwerwingsprojek wat as die IIAL-program bekendstaan. Die IIAL-dokument is dus in teenstelling met die vennootskapsooreenkoms ’n tipiese taalbeplanningsdokument. Nogtans is dit opvallend dat die dokument (gedateer September 2013) wat via die DBO se webtuiste beskikbaar is, steeds die status van ’n konsepbeleid geniet (DBO 2013). Volgens die notule van ’n parlementêre portefeuljekomiteevergadering van 27 Junie 2017 was die program toe nietemin reeds by 973 skole in die land geïmplementeer, dit wil sê 27% van die geteikende skole (PKBO 2017).

Die IIAL-konsepdokument bevat die oogmerke van die beleid, verduidelik die bestaande situasie wat die taalkurrikulum betref en sit dan die beleidsraamwerk uiteen wat betref die beplande implementering van die beleid. As sodanig bevat die IIAL-dokument nie net beleid wat op die taalkurrikulum betrekking het nie (dit word redelik volledig behandel), maar ook op ander aspekte omtrent beleidsbeplanning by taalverwerwing, te wete opmerkings oor hulpbronne, personeel en programevaluering (sien DBO 2013:14–5).

Dit is opmerklik dat die konsepbeleid twee stelle oogmerke bevat: vyf algemene oogmerke wat ter inleiding gestel word en die volgende drie oogmerke wat verder aan in die dokument as “hoofoogmerke” gestel word:

  • Om vaardigheid in asook die gebruik van “Afrikatale”7 op huistaalvlak te verbeter
  • Om toegang tot ander tale as Engels en Afrikaans vir almal te verhoog deur van leerders wat hierdie tale nie ken nie te vereis om ’n “Afrikataal” aan te leer
  • Om sosiale kohesie en ekonomiese ontwikkeling te bevorder en geleenthede te verhoog vir die ontwikkeling van “Afrikatale” as ’n betekenisvolle wyse waarop erfenis en kulture bewaar kan word (DBO 2013:6).

Die eerste twee oogmerke hou in taalbeplanningsterme direk verband met taalverwerwingsbeplanning: die handhawing van die moedertaal en die verwerwing van ’n tweede of vreemde taal. Ofskoon die derde oogmerk ook deels op taalhandhawing betrekking kan hê (spesifiek wat die tweede gedeelte van die oogmerk betref), bevat dit ’n oogmerk wat buite die tipiese taalbeplanningsraamwerk val. Nietemin val die klem in die IIAL se beplanningsbesonderhede uiteindelik op die verwerwing van ’n “Afrikataal” deur nie-moedertaalsprekers.

Voorts bevat die IIAL-dokument ’n beleidsraamwerk waarin beide die taalvereistes van die bestaande taalkurrikulum en die IIAL-taalvereistes uiteengesit word. Volgens laasgenoemde word daar voortaan van leerders verwag om drie (in plaas van die bestaande twee) amptelike tale op skool aan te bied: een op huistaal (HT)-vlak en die ander twee op eerste addisionele taal (EAT)-vlak; volgens die IIAL-beleid op vreemde wyse uitgedruk as “EAT Eerste” (tegnies gesproke eintlik EAT) en “EAT Tweede” (tegnies gesproke eintlik TAT). Ingevolge die IIAL identifiseer die skole self die EAT “Tweede”, hoofsaaklik op grond van die taaldemografie van die betrokke provinsie (DBO 2013:9). In teenstelling met die bestaande kurrikulum word nou van leerders verwag om die TAT reeds in die grondslagfase aan te leer. Hierdie drie tale is veronderstel om volgens die toepaslike CAPS-voorskrifte met betrekking tot die verskillende taalvlakke geïmplementeer te word. Verder word veronderstel dat die drie tale tot en met die senior fase geïmplementeer sal word en dus nie net in die grondslagfase nie. Die opvallende teenstrydighede van die IIAL-voorstelle impliseer ’n gebrek aan koördinering tussen die betrokke twee staatsdepartemente. Ten minste word vermeld dat die voorgestelde reëlings implikasies inhou vir ter sake kurrikulumbeleide soos die hersiene weergawe van die National Policy Pertaining to the Programme and Promotion Requirements of the National Curriculum Statement Grades R–12 (DBO 2015).

Konkreet veronderstel hierdie nuwe reëlings byvoorbeeld dat ’n Afrikaanstalige leerder voortaan Afrikaans as huistaal, Engels as EAT en Sotho as TAT sal aanbied. Dit kom daarop neer dat die tweede oorhoofse IIAL-oogmerk hier bo inderdaad nagestreef word. Soos aanstons sal blyk, word Sotho in Philippolis nes Nama in die Noord-Kaap inderdaad as TAT aangebied.

In taalbeplanningsterme kan die EAT verbind word met wat konvensioneel as tweedetaalverwerwing bekendstaan, en die TAT met vreemdetaalverwerwing (vgl. Kaplan en Baldauf Jr. 2003:221). Omdat ook Nama in die Noord-Kaap as TAT aangebied word, is dit opvallend terwyl die Afrikaanse kind aan Bergmanshoogte Sotho as vreemde taal verwerf, die (Afrikaanssprekende) Nama-kind in die Noord-Kaap Nama as sy/haar erfenistaal ook as vreemde taal verwerf. Nietemin verskil die onderliggende motiewe by die twee inisiatiewe: By die Nama-inisiatief is taalherlewing sekerlik ’n oogmerk, terwyl die IIAL pertinent taalverspreiding beoog. Met betrekking tot die raamwerk vir taalbeplanningsdoelwitte is beide, interessant genoeg, taalstatuskwessies. Hierdie verskillende aksente wat beide taalverwerwings- en taalstatusbeplanning betref, werk sekerlik mee as sleutelveranderlikes by ’n vergelyking van die twee inisiatiewe, veral aangesien verskillende rolspelers by elk betrokke is.

Die ontleding van die twee instaatstellende dokumente dui op die sentrale rol van kurrikulumbeleid, spesifiek met betrekking tot TAT, by die verwesenliking van die oorhoofse taalbeplanningsoogmerke van beide taalprojekte (die eerste natuurlik by implikasie, soos aangetoon). Ingevolge die raamwerk vir taalbeplanningsoogmerke maak ’n kurrikulumbeleid ’n belangrike deel uit van taalverwerwingsbeplanning, hetsy herverwerwing of vreemdetaalverwerwing. Sodanige kurrikulum word volgens Kaplan en Baldauf Jr. (2003:219) meestal sentraal ontwikkel, soos inderdaad die geval is met TAT in Suid-Afrika.

In Suid-Afrika is die DBO verantwoordelik vir die nasionale taalkurrikulum op skool en verwante kwessies soos metode- en materiaalbeleid en evalueringsbeleid. Hierdie beleide vloei deels voort uit die kurrikulumverwante taalvereistes (en taalplig) van die Suid-Afrikaanse Skolewet 1996 (RSA 1996a) wat verband hou met die Language in education policy (LiEP) (DvO 1997), ’n beleid wat in terme van die Nasionale Onderwysbeleid (RSA 1996b) uitgereik is, asook verskeie taalkurrikulumdokumente (wat hierna ter sprake kom). Ook ander aspekte van beleidsbeplanning, soos toegangsbeleid, personeelbeleid, hulpbronbeleid en gemeenskapsbeleid wat in die raamwerk vir taalbeplanningsoogmerke uitgestippel word, vloei voort uit die betrokke wette en taalbeleid, soos hierna behandel sal word.

Wat taalvereistes betref, streef die LiEP toevoegende meertaligheid na deur die huistaal as wegspringtaal op skool te bevorder, gekoppel aan die aanleer van ’n addisionele amptelike taal (DvO 1997). Artikel 6 (tale as vakke) van hierdie beleid vereis dat leerders uiteindelik twee tale op skool aanbied – waarvan ten minste een ’n amptelike taal is – een op eerstetaalvlak en een op tweedetaalvlak. Die National Curriculum Statement (NCS) Grade R–12, ’n beleidsverklaring wat teruggevind kan word in die nasionale beleid rakende die program- en bevorderingsvereistes (DBO 2015), verwesenlik hierdie denkwyse binne ’n tegniese beleidsraamwerk. Die beleid stel die taalvlakke op skool vas (dit wil sê, huistaal, EAT en TAT – let wel, anders as wat LiEP voorskryf) en lys die goedgekeurde taalvakke vir elke vlak, wat ’n verskeidenheid nie-amptelike tale asook Suid-Afrikaanse Gebaretaal insluit, maar voorlopig nog Nama uitsluit (DBO 2015:57–60). Voorts skryf die NCS voor dat leerders in die grondslagfase een amptelike taal op huistaalvlak en een amptelike taal op EAT-vlak aanbied (DBO 2015:8). Opvallend genoeg word voorsien dat leerders eers vanaf graad 7 ’n TAT kan aanbied en dat hierdie taal nie ’n amptelike taal hoef te wees nie (DBO 2015:23). Soos reeds uitgewys, verwag die IIAL daarenteen van leerders om die TAT reeds vanaf die grondslagfase aan te bied. Hierdie diskrepansie is nog nie in die betrokke dokumentasie reggestel nie. Origens bevat die NCS die sogenaamde CAPS vir elke goedgekeurde skoolvak, insluitende die goedgekeurde taalvakke (DBO 2019c). Hierdie CAPS verteenwoordig ’n enkele omvattende dokument wat alle vorige kurrikulumdokumente vervang en is per amptelike taal uitgewerk vir die huistaal (insluitende Suid-Afrikaanse Gebaretaal), EAT en TAT vir die grondslagfase, intermediêre fase, senior fase en Verdere Onderwys en Opleiding (VOO)-fase.

Van belang in hierdie artikel is die aanbieding van Nama in die twee Noord-Kaapse skole en Sotho in Philippolis as TAT in die grondslagfase. Daar bestaan geen sodanige CAPS-dokumente vir Nama nie. Trouens, Nama word selfs nie as taal gelys in die CAPS-dokumentasie nie (sien DBO 2018). As gevolg van hierdie tekortkoming, dien die CAPS vir Engels as tweede taal volgens die segspersone as vertrekpunt by die ontwikkeling van ’n soortgelyke leerplan vir Nama (Cloete 2018a; Steenkamp 2018). Omdat die dokument vir Sotho in Sotho geskryf is, sal vir die doeleindes van hierdie studie ook staatgemaak word op die inhoud van die Engelse dokument (sien DBO 2016). As sodanig is hierdie CAPS-dokument ’n taalbeplanningsdokument by uitstek; meer nog ’n tipiese beplanningsdokument vir taalverwerwing. Die dokument bevat ’n oorsig van die Suid-Afrikaanse kurrikulum oor die algemeen vir al die fases van onderrig; besonderhede omtrent die taalkurrikulum in die besonder en spesifiek met betrekking tot die onderrig van die TAT; inligting omtrent die assessering van die TAT; en besonderhede omtrent die betrokke taalvaardighede en onderrigplanne.

Opvallend sluit taalleer in die grondslagfase beide amptelike en nie-amptelike tale in (DBO 2016:10). Die CAPS se drie taalvlakke verwys na verskillende vereiste taalvaardigheidsvlakke en nie na die konvensionele eerste, tweede, derde Taal nie (DBO 2016:10–11). Desnieteenstaande verbind die betrokke dokument die drie taalvlakke (eerste, tweede en derde taal) breedweg met die konvensionele onderskeidings wat in die raamwerk vir taalbeplanningsoogmerke voorkom. Daar word wel nie aangedui hoe hierdie onderskeidelike taalvlakke objektief vasgestel word nie. By implikasie kan die betrokke onderskeidings wel ’n skool help om te besluit watter leerders tot watter taalvlak toegang moet kry en watter leerders dus die TAT moet verwerf. Hierdie aspek van toegangsbeleid word versterk deur die betrokke IIAL-vereiste met betrekking tot die aanleer van ’n Sintoetaal op skool. Origens bevat die betrokke CAPS-dokument, soos die meeste ander sentrale kurrikulums (Kaplan en Baldauf Jr. 2003:219), ook verwysings na die gepaste metodologie met betrekking tot TAT (DBO 2016:16–9); aanbevelings omtrent die minimum vereiste materiaal wat leerkragte vir onderrigdoeleindes benodig; ’n voorgestelde tydsindeling vir die aanbied van die TAT; en riglyne omtrent vordering en bevordering (DBO 2016:25).

Opmerklik dek die betrokke CAPS-dokument wat in die raamwerk vir taalbeplanningsoogmerke in hoofsaak as kurrikulumbeleid beskou word, maar ook beleid omtrent metodes en materiaal. Verwysings na ander aspekte van beleidsbeplanning, soos toegangsbeleid en personeelbeleid, kom terloops voor. Vir ’n volledige beleid omtrent hierdie en die ander oorblywende aspekte moet daar terugverwys word na die gemelde onderwyswetgewing.

Die Suid-Afrikaanse Skolewet (RSA 1996a) staan sentraal wat betref beleid omtrent taalverwerwing op skoolvlak. Artikel 6 van die beleid ken bepaalde verantwoordelikhede omtrent taalbestuur in die onderwys toe aan skoolbeheerrade, die betrokke instansies wat verantwoordelik is vir toegangsbeleid, personeelbeleid en hulpbronnebeleid. Ingevolge artikel 6 bepaal die skoolbeheerraad die taalbeleid van ’n skool, wat insluit watter tale daar onderrig sal word, natuurlik onderworpe aan bepaalde voorwaardes met betrekking tot toegangsbeleid wat deur die DBO voorgeskryf word (sien voorskrifte oor toegang, DBO 2019b). Mansfield-Barry en Stwayi (2017:83) beklemtoon hieromtrent die skoolbeheerraad se verbandhoudende mandaat om toegangsbeleid te bepaal.

Die personeel- en hulpbronbeleid is, net soos die kurrikulum, ’n nasionale bevoegdheid wat voortvloei uit die gemelde twee onderwyswette en meer spesifiek uit ’n beleidsdokument oor norme en standaarde vir skoolbefondsing wat reeds sedert Oktober 1998 bestaan (sien DvO 1998). Volgens die personeel- en hulpbronbeleid bepaal die onderwysdepartement personeelbeleid vir skole. Die beleid vereis dat onderwysers eweredig ooreenkomstig pedagogiese vereistes versprei word en dat voldoende nie-onderwyspersoneel aangestel word. Skoolbeheerrade word toegelaat om bykomende personeel teen eie fondse aan te stel en uiteraard om bykomende fondse te in. Origens word skole vanuit provinsiale begrotings befonds ooreenkomstig bepaalde befondsingsriglyne.

Ten slotte is evalueringsbeleid ook die verantwoordelikheid van die onderwysdepartement; ’n aspek wat volledig uiteengesit word in een sentrale evalueringsbeleid, te wete The National Policy on Whole-School Evaluation (DvO 2002). Hierdie beleid maak onder meer ook voorsiening vir die evaluering van taalprogramme op skool deur te kyk na die verskeidenheid tale wat aangebied word, asook die effektiwiteit en gehalte omtrent die aanbied van die onderrigtale. Die departementele evalueringsverslag van 2010 oor die stand van die onderrigtale aan Suid-Afrikaanse skole teen die jaar 2007 (DBO 2010) – tot dusver steeds die enigste – lewer besonder insiggewende bevindinge omtrent laasgenoemde op. Van die relevante aanbevelings is dat onderrig- en leermateriaal vir die grondslagfase in alle tale beskikbaar gemaak moet word en dat beleid oor die sogenaamde “Afrikatale” duideliker uitgespel word (DBO 2010:29). Die aanname ontstaan dat die IIAL deels ’n respons op laasgenoemde verteenwoordig.

Ten slotte, wat betref gemeenskapsbeleid, wys Kaplan en Baldauf Jr. (2003:219) op een van die nadele van ’n sentraal-beheerde kurrikulum, naamlik dat dit soms die ontwikkeling van ’n gemeenskapsbeleid inhibeer. Sodanige beleid kan ’n skool help om op raadplegende wyse die gemeenskap se taalbehoeftes vas te stel, wat dan ’n uitwerking kan hê op die taalopsies wat so ’n skool aan voornemende leerders bied.

Uit hierdie oorsig van die beleidsraamwerk met betrekking tot taalverwerwing in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel blyk dit dat beleidsbeplanning inderdaad insake die verwerwing van TAT onderneem word en dat elemente van die relevante beleidsmeganismes in verskillende grade aanwesig is. Weliswaar speel die onderwysdepartement hierin ’n sentrale rol, maar doen skoolbeheerrade binne ’n beperkte mandaat mee. Uiteraard bied die betrokke dokumente nie ’n perspektief op wat op grondvlak gebeur nie en ontbreek inligting omtrent beleidsbeplanning in die betrokke skole. Vervolgens sal die resultate wat volg uit die onderhoude wat met verskeie rolspelers gevoer is, voorgehou word, asook van die waarnemings by die skole self.

 

5. Resultate van die voorstudie

In 2015 het die DBO besluit om Sotho, as deel van die IIAL-beleid, vanaf graad 1 by Bergmanshoogte Primêre Skool in te faseer. Bergmanshoogte Intermediêre Skool is een van die eerste skole in die Vrystaat wat vir implementering geïdentifiseer is. Teen 2018 word Sotho in hierdie skool reeds as TAT op graad 3-vlak aangebied. Die onderwyser is deur die DBO aangestel en sy rapporteer aan die vakhoof (Cilliers 2017). Daar bestaan onduidelikheid oor die onderwyser se kwalifikasies. Skoolpersoneel het aan die begin van die ondersoek verduidelik dat sy vanaf ’n ander skool “herontplooi” is en nie ’n opgeleide taalonderwyser is nie (Cilliers 2017). Sedertdien ontwyk die skoolhoof vrae oor haar opleiding (Engelbrecht 2018).

Sotho as ’n TAT is deel van die kurrikulum en is daarom verpligtend. Die formele klasse vind twee maal per week vir elke graad plaas. Hierdie klasse is 30 minute lank en word gevolg deur ’n informele klas van 15 minute elk met ’n eksterne taalfasiliteerder. Die DBO het sedert 2014 werkboeke vir al die TAT-tale beskikbaar. Hierdie boeke kan aanlyn van die DBO se webtuiste afgelaai word en die departement verskaf harde kopieë aan die skole op bestelling (Aldrich 2018). Sedert 2015 het die Sotho-onderwyser streng volgens die CAPS-dokumente gewerk, maar was met tye steeds onseker oor hoe sy die klasse moet hanteer. Sy het verduidelik dat die tekort aan hulpbronne bydra tot haar frustrasie (Jonas 2018). Die skool het wel hulle eerste bestelling vir TAT-leermateriaal aan die einde van 2017 geplaas, maar die DBO het nie die volle bestelling in 2018 afgelewer nie. Volgens die skool en onderwyser ontvang hulle geen verdere materiaal of ondersteuning van die departement nie (Vorster 2018). Hierdie tekort aan ondersteuning is die hoofrede waarom die Eenheid vir Taalfasilitering en -bemagtiging (ETFB) betrokke geraak het.

Die ETFB was sedert 2008 in Philippolis en omliggende streke betrokke by meertaligheidsprojekte. Bergmanshoogte Intermediêre Skool is genader rakende die implementering van ’n taalverwerwingsprojek op vennootskapsbasis. ’n Taalfasiliteerder is deur die ETFB aangestel om in ’n taalonderrigondersteunde hoedanigheid saam met die TAT-onderwyser te werk. Hierdie taalfasiliteerder help dus met taalverwerwing deur een uur per dag se interaktiewe aktiwiteite met die kinders van verskillende grade (Cilliers 2017). Die ETFB het verder die Sotho-werkboekreeks (Van der Merwe, Aldrich en Oosthuizen 2017), wat in Februarie 2018 bekendgestel is (Mentz 2018), vir elke skoolleerder aangekoop. Die Eenheid vir Taalfasilitering en -bemagtiging het hierdeur ’n hulpbron vir die skool geword. Die ETFB het verder ’n taalfasiliteerder aangestel om die Sotho-onderwyser by te staan.

Dit blyk uit die voorafstudie dat die skoolbeheerliggaam (SBL) van Bergmanshoogte Intermediêre Skool nie by die projek betrokke is nie. ’n Vorige studie (De Lange en Du Plessis 2013:29–30) in die omgewing het aangedui dat die SBL in praktyk nie die seggenskap het soos dit in die Suid-Afrikaanse Skolewet voorsien word nie. Redes hiervoor is onder meer die sosiale omstandighede en die geletterdheidsvlakke van die gemeenskap. Alhoewel die skoolhoof in hierdie geval die oorhoofse besluite ten opsigte van die beleide en leerders neem, is die onderwyser deur die DBO herontplooi en die keuse van TAT-taal is ook deur die departement gemaak (Cilliers 2017). Die skool het slegs van die taalfasiliteerder gebruik gemaak en boeke bestel nadat dit gereeld onder hulle aandag gebring is.

Die skoolhoof het ook volgens Cilliers (2017) aangedui dat die leerders op ’n informele en formele basis geassesseer word, maar uit informele gesprekke met ander onderwysers van die skool, asook met taalonderwysers buite hierdie betrokke projek, kom dit voor dat die TAT-vak as ’n “assesseringsvrye kursus” geklassifiseer is. Volgens Aldrich (2018) is dit omdat die DBO wil hê dat die kinders die aanleer van die taal moet geniet.

Die prentjie lyk anders in die geval van die Nama-projek. Die Nama-gemeenskap probeer tans vir die tweede keer Nama in die skole implementeer. Volgens L. Dawids (2018) het die eerste projek gefaal aangesien te veel skole vir die eerste projek geïdentifiseer is. ’n Tweede faktor wat volgens hom tot die onsuksesvolle implementering gelei het, was die tekort aan ’n saamgestelde kurrikulum vir die projek. Die twee gemeenskappe in Riemvasmaak en Kuboes het elkeen ’n Nama-taalontwikkelingskomitee saamgestel. Hierdie twee komitees het saam met ’n DBO-verteenwoordiger en die bestuurder van die huidige projek vergader om vas te stel hoe hulle die projek gaan benader sodat hulle nie weer dieselfde foute begaan nie (Steenkamp 2018).

Die twee Nama-taalontwikkelingskomitees het verder met hulle onderskeie gemeenskappe vergader om die projek aan hulle bekend te stel en hulle betrokkenheid te bewerkstellig. Daarna is die SBL, onderwysers en leerders betrek. Volgens Steenkamp (2018) was almal positief om Nama na die gemeenskap terug te bring. Die komitees het terselfdertyd ’n opname gedoen oor wie in die gemeenskappe steeds Nama magtig is, aangesien sulke sprekers ’n groot rol in die taalherlewingsprojek speel (Steenkamp 2018; Swartbooi 2018). Die taalfasiliteerders, een in Riemvasmaak en die ander een in Kuboes, is deur die gemeenskap geïdentifiseer en deur die skool se SBL aangestel. Hulle ontvang ’n toelaag vanaf die DBO en rapporteer aan die twee onderskeie Nama-taalkomitees. Hierdie komitees rapporteer aan die projekbestuurder, mnr. James Mapanga. Die taalfasiliteerder is ’n Namaspreker, maar nie ’n opgeleide onderwyser nie. Hy word dus deur die grondslagfaseonderwyser van die skool ondersteun met betrekking tot die metodologie van taalonderrig (Steenkamp 2018).

Nama word volgens die CAPS-riglyne in die skool aangebied. Volgens Steenkamp (2018) en Cloete (2018a) het hulle die IIAL as motivering gebruik, want volgens dié beleid is Tswana vir die skole geïdentifiseer, alhoewel niemand in die omgewing Tswana praat nie. Alhoewel die toegewing toegestaan is, vorm die Nama-implementering nie deel van die kurrikulum nie, aangesien Nama nie ’n amptelike taal van Suid-Afrika is nie. Gevolglik word die taal as ’n buitemuurse aktiwiteit aangebied. Hierdie klasse word 15 minute per dag direk na skool op vier dae aangebied (Steenkamp 2018).

Steenkamp (2018) verduidelik dit soos volg:

Meer spesifiek nadat die nasionale minister mos nou toestemming gegee en met regtig goeie motivering en hulp van PanSALB kon ons mos nou daarin slaag om die taal ten minste in die skool setup in te bring, maar hulle verkies mos dan nou merendeels dat dit as buitekurrikulêr aangebied word. So, op die huidige oomblik word dit nie binne die normale tyd van die skool aangebied nie, so dit word omtrent net na 12, dit is mos nou die graad R’etjies, so dit is waar dit infaseer, so die graad R’etjies maak mos nou teen 12 uur klaar met hulle se skoolprogram en dan sal Meneer Dawids nou inkom en vir 15 minute word hulle dan deur hierdie proses gevat.

Die gemeenskap versoek en benodig ondersteuning en samewerking van die DBO (E. Dawids 2018). Ongelukkig kan die DBO nie enige opvoedkundige werkboeke verskaf nie, aangesien Nama nie as ’n taal vir opvoedkundige doeleindes geklassifiseer is nie. Die DBO het wel ’n eenmalige skenking van R10 000 aan die Kuboes-Nama-Taalkomitee geskenk om by te dra tot die ontwikkeling van die Nama taal- en kultuuraktiwiteite (Louw 2018).

Die projek word wel deur die //Kharas-distrik van Namibië ondersteun, asook deur die Universiteit van Namibië. Die twee Nama-taalontwikkelingskomitees het voor die afloop van die projek ’n besoek aan Namibië afgelê. Hulle het onder meer die primêre skool in Keetmanshoop besoek wat Nama as ’n voertaal gebruik. Daar is steeds deurlopende samesprekings tussen die verskeie groepe (Steenkamp 2018; Mapanga 2019). Die llKharas-distrik het ’n paar storieboeke en plakkate as materiaal aan die skole geskenk, maar daar is nie werkboeke vir elke kind beskikbaar nie. Die Universiteit van Namibië is verder bereid om Nama sonder enige koste aan die ouergemeenskap aan te leer (E. Dawids 2018; Steenkamp 2018). Die Nama-taalkomitees het ’n gestandaardiseerde ortografie aan PanSALB vir goedkeuring voorgelê. Hulle hoop dat dit sal bydra tot die ontwikkeling van hulle eie studiemateriaal.

Dit is opvallend dat die verwerwing van Nama nie geassesseer word nie. Die taalfasiliteerder het verduidelik dat die leerders nie formeel geassesseer word nie, aangesien dit ’n buitemuurse aktiwiteit is. Daar vind wel informele assessering plaas. Die fasiliteerder het tydens die terugvoersessie aan die Riemvasmaak-Nama-taalontwikkelingskomitee terugvoer oor die leerders se ontwikkeling gegee. Hy is baie beïndruk met die pas waarteen die kinders die taal aanleer en die hoeveelheid wat hulle reeds verstaan (L. Dawids 2018).

 

6. Bespreking

Die hoofkomponent van hierdie ondersoek, wat die ontleding van ter sake beleidsdokumente behels het, lewer belangrike insigte op omtrent taalverwerwingsbeplanning binne die Suid-Afrikaanse skoolstelsel. In die eerste plek lê die ontleding ’n strategiese verband tussen taalverwerwingsbeplanning en taalstatusbeplanning bloot. Beide taalverwerwingsprojekte spruit in wese voort uit taalstatusoogmerke: die Nama-projek in Noord-Kaapse skole uit die strewe na taalherlewing en die Sotho-projek in Philippolis, as deel van die groter IIAL, uit die strewe na taalverspreiding. Dit is opvallend dat hierdie grondige verskil in taalstatusoogmerke ook deursyfer na uiteenlopende taalverwerwingsoogmerke: in die geval van die Nama-projek taalherverwerwing, maar in die geval van die Sotho-projek (en die IIAL) vreemdetaalverwerwing.

Hierdie uiteenlopende oogmerke behoort streng gesproke neerslag te vind in beleidsbeplanning en hou beslis implikasies daarvoor in. ’n Toegangsbeleid vir die Nama-projek behoort byvoorbeeld grondig te verskil van die toegangsbeleid vir die Sotho-projek, ook omdat eersgenoemde ’n buitekurrikulêre projek is en laasgenoemde ’n taalverpligting behels. In eersgenoemde geval word die beleid gemik op leerders van Nama-afkoms, maar in die tweede geval op leerders wat nie ’n Sintoetaal magtig is nie. Die IIAL maak laasgenoemde duidelik, maar in eersgenoemde geval word dit geïmpliseer. Daar kon nie tydens die ondersoek ’n uitdruklike beleid hieromtrent gevind word nie.

Uiteraard behoort ook die kurrikulum en trouens selfs van die ander aspekte van beleidsbeplanning in teorie te verskil. In die lig hiervan val die besluit om in beide gevalle byvoorbeeld die CAPS vir TAT as taalkurrikulum te implementeer nogal vreemd op. Dit plaas Nama as erfenistaal saam met vreemde tale soos Frans, Duits, Mandaryns en Serwies en die nege Sintoetale (sien byvoorbeeld DBO 2019a). ’n CAPS-kategorie vir die drie groepe erfenistale wat in artikel 6(5) van die Grondwet vermeld word, en wat derhalwe Nama insluit, word dus vermis (RSA 1996c).

In die tweede plek dui die ontleding daarop dat Suid-Afrika nietemin op ’n gekoördineerde wyse aandag gee aan die verwerwing van addisionele tale binne die onderwys, ten spyte van die feit dat die bovermelde amptelike evalueringstudies suggereer dat die klem op die verwerwing van Engels as EAT val. Daarom is dit gepas dat die IIAL as noemenswaardige nasionale inisiatief staatmaak op die bestaande taalkurrikulum as sentrale element van ’n program wat die verwerwing van ’n TAT bevorder. Ofskoon dit nie deel is van die IIAL nie, gaan die Nama-inisiatief op dieselfde wyse te werk, behalwe dat in hierdie geval nog ’n volledige kurrikulum ontwikkel moet word.

Vanuit ’n ontwerpsoogpunt beskou, is al die beleidsmeganismes wat vereis word om die suksesvolle verwerwing van ’n addisionele taal te verseker teenwoordig. In die geval van die verwerwing van ’n Sintoetaal as addisionele taal verleen die IIAL as instaatstellende dokument bykomende steunkrag hieraan. Alhoewel die vennootskapsooreenkoms nie dieselfde rol by die Nama-inisiatief speel nie, omdat taalverwerwing nie een van die oogmerke is nie, dien dit nietemin as inspirasie vir die uiteindelike institusionalisering van Nama as TAT. Die samewerking wat met die DBO bewerkstellig is wat kurrikulumontwikkeling binne die kader van CAPS betref, dra betekenisvol hiertoe by. Trouens, die betrokke beleidsontwerp, veral wat kurrikulumbeleid betref, is van sodanige gehalte dat albei die projekte wat ondersoek is, naamlik die Nama-projek in die Noord-Kaap en die Sotho-projek in Philippolis, binne die kader van die IIAL suksesvolle uitkomste behoort op te lewer. Wat die voorondersoek essensieel uitwys, is dat enige leemtes wat voorkom nie aan beleidsontwerp toe te skryf is nie, maar te wyte is aan tekortkominge by implementering. ’n Mens sou hieromtrent kon redeneer dat die DBO sy evalueringsbeleid omtrent TAT kan aanpas om aan hierdie uitdagings aandag te gee en dat dit broodnodig is om veral die implementering van die IIAL behoorlik te evalueer.

Aan die ander kant is dit opvallend dat Nama nog nie as TAT in NCS-dokumentasie gelys word nie, ’n aspek wat sekerlik vanuit ’n ontwerpsoogpunt hersien behoort te word. Hierdie hersiening van die NCS-dokumentasie kan met die ontplooiing van ’n Nama-kurrikulum saamhang. Daar behoort wel besin te word of daar nie ruimte binne die NCS bestaan om voorsiening te maak vir die herverwerwing van ’n erfenistaal nie, om sodoende meer gepas voorsiening te maak vir die behoeftes van die betrokke leerders. In hierdie opsig moet die aanbied van Nama as TAT as ’n tussentydse maatreël beskou te word, net soos die feit dat dit tans nog buitekurrikulêr aangebied word. Daar ontstaan dus ’n pleidooi vir ’n nasionale program vir die verwerwing van erfenistale soortgelyk aan die IIAL vir die verwerwing van ’n Sintoetaal as TAT.

Die teenstrydigheid ten opsigte van programontwerp tussen die IIAL en die NCS, veral met betrekking tot die taalvlakke, behoort vanuit ’n ontwerpsoogpunt ook gesinchroniseer te word.

Een van die opvallende leemtes in die ontwerpmondering van die Suid-Afrikaanse taalverwerwingsprogram is die afwesigheid van ’n gemeenskapsbeleid. Ofskoon dit meermale by nasionaal-ontwerpte programme voorkom, behoort dit nietemin vorentoe aandag te kry. Uit die voorondersoek blyk dat die beweerde sukses van die Nama-inisiatief heelwat te make het met die betrokkenheid van die gemeenskap. Trouens, klem word deur rolspelers gelê op die feit dat die hele inisiatief vanuit die gemeenskap gebore is. Dieselfde geld nie vir die Sotho-inisiatief (en trouens vir die IIAL oor die algemeen) nie, aangesien dit kennelik ’n projek is wat van bo op skole afgedwing word. Dit kan onder meer afgelei word uit die feit dat die Sotho-onderwyser in Philippolis skynbaar nie in oorleg met die betrokke skool aangestel is nie en ook dat Xhosa as groter taal in die gebied nie as alternatiewe taalkeuse aangebied word nie. Aan die ander kant toon die ontwikkeling van geskikte Sotho-materiaal deur plaaslike onderwysers watter positiewe impak gemeenskapsbetrokkenheid kan hê.

Tabel 1 som die ooreenkomste en verskille tussen die twee projekte op. Dit word gebaseer op die resultate wat die voorondersoek opgelewer het.

Tabel 1. Opsomming van versamelde inligting

Meganisme

Sotho-program

Nama-program

Toegangsbeleid

In ooreenstemming met ’n besluit van die skoolbeheerraad en ingevolge IIAL-voorskrifte, asook voorskrifte in NCS-dokumente.

Het betrekking op leerders wat nie ’n Sintoetaal ken nie – Sotho by Bergmanshoogte Primêre Skool.

In teenstelling met NCS-vereistes reeds vanaf graad 3 aangebied.

In ooreenstemming met ’n besluit van die skoolbeheerraad ingevolge besluitnemers se vertolking van die vennootskapsooreenkoms en in vennootskap met die DBO.

Het betrekking op leerders met ’n Nama-agtergrond in Noord-Kaapse skole.

Buitekurrikulêr en in teenstelling met NCS-vereistes reeds vanaf graad 3 aangebied.

Personeelbeleid

In ooreenstemming met die befondsingsbeleid vir skole.

Deels verwesenlik deur die toewysing van ’n vakhoof. Vrae bestaan of die beleid oor gepaste kwalifikasies toegepas word, in dié geval die aangewese Sotho-onderwyser.

In ooreenstemming met ’n geïmpliseerde vertolking van die vennootskapsooreenkoms, maar nie in ooreenstemming met die befondsingsbeleid vir skole nie, aangesien daar nie van gekwalifiseerde taalonderwysers gebruik gemaak word nie.

Kurrikulumbeleid

In ooreenstemming met die CAPS vir Sesotho TAT en in samehang met IIAL-vereistes.

In ooreenstemming met die CAPS vir Engels TAT. Die Nama-kurrikulum word nog ontwikkel.

Metode- en materiaalbeleid

In ooreenstemming met NCS-dokumente.

Verwesenlik in die vorm van veronderstelde departementele werkboeke wat uiteindelik deur buite-instansies verskaf word.

In ooreenstemming met ’n geïmpliseerde vertolking van die vennootskapsooreenkoms.

Verwesenlik deur addisionele werkboeke wat veronderstel is om vanuit Namibië voorsien behoort te word, maar nie in die praktyk die geval is nie.

Hulpbronbeleid

In ooreenstemming met die befondsingsbeleid vir skole.

Verwesenlik in die vorm van ’n toegewyde (skynbaar herontplooide) Sotho-onderwyser. Word in teenstelling met die beleid ondersteun deur ’n ekstern-befondsde taalfasiliteerder.

In ooreenstemming met die befondsingsbeleid vir skole wat voorsiening maak vir aanstellings deur skoolbeheerrade.

Verwesenlik in die vorm van ’n skoolbeheerraad-aanstelling van ’n taalfasiliteerder ondersteun deur ’n graad 1-onderwyser.

’n Eenmalige donasie deur die DBO.

Gemeenskapsbeleid

Bestaan nie.

Wel sprake van beperkte betrokkenheid deur die Universiteit van die Vrystaat.

Bestaan nie.

Wel sprake van gemeenskapsteun (ook al in die vorm van die taalfasiliteerder) en beperkte steun vanuit Namibië.

Evalueringsbeleid

Nog nie spesifiek vir die IIAL in die breë beskikbaar nie.

Onseker watter beleid betrekking het.

 

Een groot verskil tussen die twee projekte wat deurskemer hou verband met die mate van entoesiasme waarmee elk aangebied word. Dit is ’n kwessie wat direk met gemeenskapsbetrokkenheid te make het, ’n aspek wat nie noodwendig in taalbeplanningsmodelle voorkom nie. Selfs al word Nama buitekurrikulêr aangebied, kan daar juis as gevolg van die intense gemeenskapsbetrokkenheid voorspel word dat dit ’n projek is wat waarskynlik op die langer termyn beter resultate as die Sotho-projek sal oplewer. Desnieteenstaande moet daar in aanmerking geneem word dat die Sotho-projek in hierdie opsig die groot voordeel het dat Sotho sowel in die skoolomgewing as omliggende gemeenskapstaal gebesig word.

 

7. Gevolgtrekking

Die klem in die hierdie artikel het geval op beleidsontwerp en as sodanig op ’n ontleding van ter sake argivale dokumente om insae te verkry rakende hierdie aspek. Hierdie insae verwys na die ontwerp van gepaste beleid met betrekking tot die verwerwing van addisionele tale binne die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel. In die geval van Nama vloei die ontwerp voort vanuit ’n nie-taalbeplanningsdokument (’n vennootskapsooreenkoms tussen die suidelike streek van Namibië en die Noord-Kaap) en in die geval van Sotho vanuit ’n amptelike, nasionale taalbeplanningsdokument (die IIAL).

Aan die hand van die raamwerk vir taalbeplanningsdoelwitte kon vasgestel word dat die nodige beleidsmeganismes inderdaad aanwesig is om sukses te kan verseker met die verwerwing van die geteikende addisionele tale. Hierdie beleidsmeganismes kom voor in verskeie nasionale beleidsdokumente binne onderwysverband, waaronder die NCS en verwante dokumente sentraal staan. As oorhoofse beleidsdokument maak die NCS voldoende voorsiening vir die verwerwing van ’n TAT (in taalbeplanningsterme ’n vreemde taal). Dit spel uit watter uitkomste betrekking het en gee leiding aan skole wat betref kurrikuluminhoud, metodes en materiaal, asook wie tot die betrokke program toegelaat kan word en daaraan moet deelneem. Spesifiek die ter sake CAPS-dokument (vir TAT) speel hierin ’n sentrale rol, maar in samehang met ander beleidsdokumente met betrekking tot die befondsing van sodanige programme, gepaste hulpbronne asook toegang tot onderwys oor die algemeen.

Een van die leemtes betreffende beleidsmeganismes wat geïdentifiseer is, is die relatiewe afwesigheid van gemeenskapsbeleid, ’n tekortkoming wat volgens Kaplan en Baldauf Jr. (2003:219) meermale voorkom. Nietemin is vasgestel dat gemeenskapsbetrokkenheid wel ’n faktor is om mee rekening te hou, soos gesien kan word in die relatiewe sukses wat met die Nama-programme behaal word.

Enkele ontwerpuitdagings is geïdentifiseer waaraan verdere aandag gegee behoort te word. Een van die belangrikste uitdagings is die feit dat Nama nog nie as TAT geïnstitusionaliseer is nie en dat die implementering van die IIAL nie heeltemal vlot verloop nie. Die studie van die implementering van Sotho as TAT in Philippolis wys dit uit. Veral die probleme wat ondervind word met geskikte onderrig- en leermateriaal is ’n groot uitdaging wat indringende aandag verdien. Nietemin sou die ideaal wees om ’n kategorie vir erfenistale in die taalkurrikulum in te rig.

Uiteindelik kon die ondersoekers met hierdie ondersoek wel faktore identifiseer wat ’n rol kan speel by die suksesvolle implementering van Nama as buitekurrikulêre TAT in Noord-Kaapse skole en Sotho as TAT ingevolge die IIAL in Philippolis. Dit blyk dat die nodige beleid wel veral in die geval van die Sotho-projek bestaan om sukses te verseker, maar dat leemtes voorkom wat die implementering daarvan betref. Dieselfde kan nie van die Nama-projek gesê word nie, maar dit wil voorkom asof hierdie leemte oorbrug kan word deur die entoesiastiese meewerking van die gemeenskap en besluitnemers. Hierdie opvallende verskil tussen die twee projekte suggereer dat motivering uiteindelik ’n betekenisvolle veranderlike is waarmee rekening gehou behoort te word en waarvoor die raamwerk vir taalbeplanningsdoelwitte nie voorsiening maak nie. Verdere studies kan dus na aanleiding van die belangrike werk van Ager (2001) oor motivering in taalbeplanning verder op hierdie aspek ingaan en bepaal hoe dit skakel met taalverwerwingsbeplanning. Suid-Afrikaanse Gebaretaal kan verder by die vergelykende studie betrek word aangesien dié taal in 2014 as ’n huistaal geïmplementeer is en reeds vier jaar later as graad 12-vak aangebied is. Hoe dit ook al sy, word die sukses van ’n taalverwerwingsprogram uiteindelik bepaal deur die uitkoms daarvan, dit wil sê of die leerders die nodige taalvaardigheid verwerf al dan nie. Ook hierdie aspek het nie in die huidige studie ter sprake gekom nie en verg beslis verdere ondersoek.

 

Bibliografie

Ager, D. 2001. Motivation in language planning and language policy. Clevedon/Buffalo/Toronto/Sydney: Multilingual Matters.

Aldrich, J. 2018. Onderhoud gevoer met Johlette Aldrich, medesamesteller van die werkboekreeks Second Additional Language Sesotho Grade 1–3, deur Jani de Lange tydens die bekendstelling van die reeks aan onderwysers op 14 Februarie 2018, Willem Postma Primêre Skool, Bloemfontein.

Boipelo, M. 2018. It’s back to school time for the Nama Language [Dit is terug-skool-toe-tyd vir Nama]. News24, 31 Januarie. https://www.news24.com/news24/southafrica/local/express-news/its-back-to-school-time-for-the-nama-language-20180130 (20 Junie 2018 geraadpleeg).

CALDi (Centre for African Language Diversity). 2017. CALDi – Centre for African Language Diversity is at University of the Free State, 1 July 2017, Bloemfontein. https://www.facebook.com/CentreForAfricanLanguageDiversity/posts/pansalb-the-pan-south-african-language-board-organised-the-indigenous-peoples-la/1580609348638452/ (12 Maart 2019 geraadpleeg).

Cilliers, N. 2017. Terugvoer deur Nadia Cilliers, Adjunkhoof van Bergmanshoogte Intermediêre Skool, Philippolis, tydens ’n projekvergadering van die Sotho-bemagtigingsprojek van die Eenheid vir Taalfasilitering en -bemagtiging van die Universiteit van die Vrystaat met Theo du Plessis, Annalene van Staden en Jani de Lange van die Universiteit van die Vrystaat op 25 April 2017, Bergmanshoogte Intermediêre Skool, Philippolis.

Cloete, C. 2018a. Telefoniese onderhoud gevoer met Christo Cloete, Kurrikulumontwikkelaar by die Namakwa Onderwysdistrikskantoor, deur Jani de Lange op 14 Februarie 2018, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

—. 2018b. Onderhoud gevoer met Christo Cloete, Kurrikulumontwikkelaar by die Namakwa Onderwysdistrikskantoor, deur Jani de Lange tydens die Nama-projekbekendstelling op 23 Februarie 2018, Johan Hein Primêre Skool in Kuboes, Richtersveld.

Cloete, L. 2011. Karas and Northern Cape revive twinning agreement. Namibian, 22 Februarie 2011, bl. 1. https://www.namibian.com.na/index.php?id=76411&page=archive-read (12 Maart 2019 geraadpleeg).

—. 2017. //Karas, Northern Cape finalise twinning agreement. Namibian, 5 Mei 2017, bl.6. https://www.namibian.com.na/54129/read/Karas-Northern-Cape-finalise-twinning-agreement (12 Maart 2019 geraadpleeg).

Dawids, E. 2018. Onderhoud gevoer met Erika Dawids, lid van die Nama-taalontwikkelingskomitee, deur Jani de Lange tydens die Nama-projekbekendstelling op 23 Februarie 2018 by Johan Hein Primêre Skool, Kuboes.

Dawids, L. 2018. Onderhoud gevoer met Lionel Dawids, Taalfasiliteerder Riemvasmaak Primêre Skool, deur Jani de Lange tydens die Riemvasmaak-Nama-taalontwikkelingskomitee-vergadering op 21 Februarie 2018, Riemvasmaak Primêre Skool.

DBME (Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering) en DBO (Departement van Basiese Onderwys). 2017. Report on the Implementation Evaluation of the National Curriculum Statement Grade R to 12 Focusing on the Curriculum and Assessment Policy Statements (CAPS). Full Report 25 May 2017. Pretoria: Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering en Departement van Basiese Onderwys.

DBO (Departement van Basiese Onderwys). 2010. The status of the language of learning and teaching (LOLT) in South African public schools. A quantitative overview. Pretoria: Departement van Basiese Onderwys.

—. 2013. The Incremental Introduction of African Languages in South African Schools. Draft policy: September 2013. https://www.education.gov.za/Portals/0/Documents/Policies/IIAL%20Policy%20September%202013%20(3).pdf?ver=2015-03-26-102501-853 (2 Februarie 2018 geraadpleeg).

—. 2015. National policy pertaining to the programme and promotion requirements of the National Curriculum Statement Grades R–12 as revised November 2015. Pretoria: Departement van Basiese Onderwys.

—. 2016. English Second Additional Language, Curriculum Assessment Policy Statement Foundation Phase: Grades 1–3. Draft copy. National Curriculum Statement. Pretoria: Departement van Basiese Onderwys.

—. 2018. CAPS for Foundation Phase. https://www.education.gov.za/Curriculum/CurriculumAssessmentPolicyStatements(CAPS)/CAPSFoundation.aspx (14 Februarie 2019 geraadpleeg).

—. 2019a. CAPS for Intermediate Phase. https://www.education.gov.za/Curriculum/CurriculumAssessmentPolicyStatements(CAPS)/CAPSIntermediate.aspx (14 Februarie 2019 geraadpleeg).

—. 2019b. Resources/Policies. https://www.education.gov.za/Resources/Policies.aspx (9 April 2019 geraadpleeg).

—. 2019c. Curriculum Assessment Policy Statements (CAPS). https://www.education.gov.za/Curriculum/CurriculumAssessmentPolicyStatements(CAPS).aspx (2 April 2019 geraadpleeg).

De Lange, J. 2012. Die stand van moedertaalonderrig na 1994: ’n Gevallestudie van die Xhariep. MA-verhandeling, Universiteit van die Vrystaat.

De Lange, J en T. Du Plessis. 2013. Influences on educational language policy: A historical-ethnographic investigation at schools in the Southern Free State, South Africa. In Cuvelier, Du Plessis, Meeuwis, Vandekerckhove en Webb 2013.

DKK (Departement van Kuns en Kultuur). 2003. National Language Policy Framework, 12 February 2003. Pretoria: Departement van Kuns en Kultuur.

Die Presidensie. 2018. Presidency on issues of concern to the Khoi and San communities, 30 Dec 2018. Suid-Afrikaanse Regering, Republiek van Suid-Afrika. https://www.gov.za/speeches/presidency-onb-issues-concern-khoi-and-san-communities-30-dec-2018-0000 (12 Maart 2019 geraadpleeg).

Du Plessis, T. 2014. Slotwoord deur prof. Theo du Plessis by die afsluiting van die Multilingual Information Development Project (MIDP), 18 Junie 2014, Provinciehuis aan de Singel, Antwerpen.

DvO (Departement van Onderwys). 1997. Language in education policy in terms of Section 3(4)(m) of the National Education Act, 1996 (Act 27 of 1996). Goewermentskennisgewing nr. 1701 van 19 Desember 1997. Pretoria: Staatsdrukker.

—. 1998. National Norms and Standards for School Funding [Nasionale norme en standaarde vir skoolbefondsing]. Goewermentskennisgewing nr. 2362 van 12 Oktober 1998, Staatskoerant, vol. 400, nr. 19347. Pretoria: Staatsdrukker.

—. 2002. The National Policy on Whole-School Evaluation. Goewermentskennisgewing nr. 695 van 26 Julie 2001 Staatskoerant, vol. 433, nr. 22512. Pretoria: Staatsdrukker.

Engelbrecht, R. 2018. Onderhoud gevoer met Rodney Engelbrecht, skoolhoof van Philippolis Intermediêre Skool deur Jani de Lange op 26 April, Philippolis Intermediêre Skool, Philippolis.

Frith, A. 2011a. Riemvasmaak: Main place 378002 from Census 2011. https://census2011.adrianfrith.com/place/378002 (3 April 2019 geraadpleeg).

—. 2011b. Khubus: main place 363005 from Census 2011. https://census2011.adrianfrith.com/place/363005 (3 April 2019 geraadpleeg).

—. 2011c. Philippolis: Main place 461013 from Census 2011. https://census2011.adrianfrith.com/place/461013 (3 April 2019 geraadpleeg).

Holness, W. 2016. The development and use of sign language in South African schools: The denial of inclusive education. African Disability Rights Yearbook, 2016(4):141–189.

Hornberger, N. 2006. Frameworks and models in language policy and planning. In Ricento (red.) 2006.

Hornberger, N. (red.) 2011. Can schools save indigenous languages? New York: Palgrave Macmillan.

Hult, F.M. en D.C. Johnson (reds.) 2015. Research methods in language policy and planning: A practical guide. Malden/Oxford/Chichester: Wiley Blackwell.

Jonas, V. 2018. Onderhoud gevoer met Veronica Jonas, Sotho TAT-onderwyser, Bergmanshoogte Intermediêre Skool, deur Jani de Lange op 28 April 2018, Bergmanshoogte Intermediêre Skool, Philippolis.

Jones, K. 2019. Contemporary Khoesan languages of South Africa. Critical Arts, 33(4–5):55–73. https://doi.org/10.1080/02560046.2019.1688849 (14 Maart 2019 geraadpleeg).

Kamwangamalu, N.M. 2011. Commentary from an African and international perspective. In Hornberger (red.) 2011.

Kaplan, R.B. en R.B. Baldauf Jr. 1997. Language planning: From practice to theory. Clevedon: Multilingual Matters.

—. 2003. Language and language-in-education planning in the Pacific Basin. Dordrecht/Boston/Londen: Kluwer Academic Publishers.

Kotze, C-R. 2009. The linguistic landscape of rural South Africa after 1994: A case study of Philippolis. MA-verhandeling, Universiteit van die Vrystaat.

Louw, T. 2018. Onderhoud gevoer met Tumi Louw, Adjunkhoof van die Noord-Kaapse Departement van Onderwys, deur Jani de Lange tydens die Nama-projekbekendstelling op 23 Februarie 2018, Johan Hein Primêre Skool, Kuboes.

Lucas, S. 2018. Address by the Premier of the Northern Cape, Ms Sylvia Lucas, at the introduction of Nama language at the Riemvasmaak Primary School, Province of the Northern Cape, Republic of South Africa. http://www.northern-cape.gov.za/index.php/news-room/news-and-speeches/152-media-room/office-of-the-premier/news-and-speeches/1373-address-by-the-premier-of-the-northern-cape-ms-sylvia-lucas-at-the-introduction-of-nama-language-at-the-riemvasmaak-primary-school-riemvasmaak (14 Maart 2019 geraadpleeg).

Maboya, M.J. 2017. Progress report on the implementation of the Incremental Introduction of African Languages (IIAL), Dr. MJ Maboya, 27 June 2017, Cape Town. https://slideplayer.com/slide/12723474/ (28 Maart 2017 geraadpleeg).

Mansfield-Barry, S. en L. Stwayi. 2017. School governance. In Veriava, Thom en Hodgson (reds.) 2017.

Mapanga, J. 2019. Telefoniese onderhoud gevoer met James Mapanga, Koördineerder van die Nama-taalontwikkelingsprojek, Noord-Kaapse Departement van Onderwys, deur Jani de Lange op 8 Januarie 2019, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

—. 2018. Onderhoud gevoer met James Mapanga, Koördineerder van die Nama-taalontwikkelingsprojek, Noord-Kaapse Departement van Onderwys, deur Jani de Lange tydens die Nama-projekbekendstelling op 23 Februarie 2018, Johan Hein Primêre Skool, Kuboes.

McCarty, T. 2015. Ethnography in language planning and policy research. In Hult en Johnson (reds.) 2015.

—. 2011. Schools as strategic tools for indigenous language revitalization: Lessons from Native America. In Hornberger (red.) 2011.

Mentz, L. 2018. Boeke bekend gestel. Bloemnuus, 22 Februarie, bl. 3.

Nketo, S. 2017. Nama language to be introduced at two Northern Cape schools. News24, 14 Julie. https://www.news24.com/SouthAfrica/Local/East-Griqualand-Fever/nama-language-to-be-introduced-at-two-northern-cape-schools-20170707 (14 Maart 2019 geraadpleeg).

PanSAT (Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad). 2018. PanSALB Annual report 2017–18 financial year. Pretoria: Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad. http://pmg-assets.s3-website-eu-west-1.amazonaws.com/PanSALB_Annual_Report_2017-18.pdf (28 Maart 2019 geraadpleeg).

PKBO (Portefeuljekomitee Basiese Onderwys). 2017. Incremental Introduction of African Languages (IIAL); History as compulsory subject; Jobs for cash; Protests; with Minister. Meeting report 27 June 2017, Parliamentary Monitoring Group (PMG). https://pmg.org.za/committee-meeting/24712/ (28 Maart 2019 geraadpleeg).

PNC (Province of the Northern Cape). 2019. 25 Year review 1994–2019, Province of the Northern Cape, Republic of South Africa. Kimberley: Kantoor van die Premier.

Reporter. 2017. //Kharas wants tangible results from Northern Cape agreement. New Era, 18 Augustus. https://neweralive.na/posts/kharas-wants-tangible-results-from-northern-cape-agreement (12 Maart 2019 geraadpleeg).

Ricento, T. (red.) An introduction to language policy: Theory and method. Malden/Oxford/Carlton: Blackwell Publishing.

RSA (Republiek van Suid-Afrika). 1996a. Suid-Afrikaanse Skolewet, 1996. Wet 84 van 1996, soos gewysig. Goewermentkennisgewing nr. 1867, 15 November 1996. Staatskoerant vol. 377 nr. 17579. Pretoria: Staatsdrukker. https://www.gov.za/sites/default/files/gcis_document/201409/act84of1996.pdf (19 Junie 2018 geraadpleeg).

—. 1996b. Wet op Nasionale Onderwysbeleid, 1996. Nr. 27 van 1996, soos gewysig. Goewermentskennisgewing nr. 697, 24 April 1996. Staatskoerant vol. 370 nr. 17118. Pretoria: Staatsdrukker.

—. 1996c. Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996. Nr. 108 van 1996. Goewermentskennisgewing 2083, 18 Desember 1996. Staatskoerant vol. 378 nr. 17678. Pretoria: Staatsdrukker.

Spolsky, B. 2011. Riding the tiger. In Hornberger (red.) 2011.

Steenkamp, J. 2018. Onderhoud gevoer met Johan Steenkamp, skoolhoof van Riemvasmaak Primêre Skool deur Jani de Lange op 21 Februarie 2018, Riemvasmaak Primêre Skool, Riemvasmaak.

Swart, M. 2018. Focus on Khoisan languages. Diamond Fields Advertiser, 30 Januarie. https://www.dfa.co.za/news/focus-on-khoisan-languages-13010067 (12 Maart 2019 geraadpleeg).

Swartbooi, G.P. 2018. Onderhoud gevoer met Goab Paul Swartbooi, Nama-leier, deur Jani de Lange tydens die Nama-projekbekendstelling op 23 Februarie 2018, Johan Hein Primêre Skool, Kuboes.

UV (Universiteit van die Vrystaat). 2006. Annual report to the Minister of Education 2006, University of the Free State. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat.

Van der Merwe, H., J. Aldrich en L-M. Oosthuizen (samestellers). 2017. Second Additional Language Sesotho Grade 1–3. Bloemfontein: Flash & Learn.

Veriava, F., A. Thom en T. Hodgson (reds.). 2017. Basic education rights handbook: Education rights in South Africa. Johannesburg: SECTION27.

Vorster, S. 2018. Onderhoud gevoer met Susan Vorster, Graadhoof Bergmanshoogte Intermediêre Skool, deur Jani de Lange op 26 April 2018, Bergmanshoogte Intermediêre Skool, Philippolis.

 

Eindnotas

1 Sintoetale verwys na alle Bantoetale in die Suidelike Halfrond, bv. Ndebele, Zoeloe en Sotho. Die populistiese term Afrikatale is linguisties gesproke ongegrond en uiteindelik misleidend.

2 Die taalnaam Sesotho is slegs aan dié taal gebonde. Ander tale ken nie die prefiks se- nie en volg hulle eie skryftradisies: In Zoeloe is dit byvoorbeeld IsiSotho en in Afrikaans (en Engels) Sotho.

3 ’n Etnografiese studie is ’n kwalitatiewe metode waar die navorser interaktief binne ’n

sosiale omgewing observasies intyds maak en bekommentarieer.

4 Daar bestaan nog nie ’n amptelike Afrikaanse teks nie, slegs die 2012-weergawe (sien DBO 2012).

5 Die Presidensie (2018) verwys na die ooreenkoms as ’n Memorandum of agreement met Namibië.

6 Deesdae bekend as die Matheus Hamutenya Keetmanshoop-//Kharas Regional Council (Reporter 2017).

7 ’n Uitstekende voorbeeld van die ontoereikendheid van die term Afrikataal: Die IIAL lys Afrikaans as ’n Afrikataal, maar wil streng gesproke eintlik die Sintoe-tale as sodanig bevorder (sien DBO 2013:5). Opvallend word Suid-Afrikaanse Gebaretaal nie as ’n Afrikataal gelys nie.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Taal-in-onderwys-beplanning in die Noord-Kaap en Vrystaat. ’n Beoordeling van twee taalverwerwingsprogramme in skole  appeared first on LitNet.

Waarnemings van langdurige struktuur in tydreekse van finansiële markte

$
0
0

Waarnemings van langdurige struktuur in tydreekse van finansiële markte

Daniel J. Joubert, onafhanklike navorser

LitNet Akademies Jaargang 17(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Met gebruik van my eie programmatuur bestudeer ek reeds etlike dekades patrone op grafieke van die pryse van finansiële markte. Ek het gevind dat markpryse ’n voorkeur openbaar om by herhaling langs tendenslyne met sekere hellings van rigting te verander. Die verskynsel is in alle finansiële tydreekse waargeneem, wat daarop dui dat dit ’n inherente eienskap van finansiële tydreekse is wat deur korrek-geplaaste tendenslyne sigbaar gemaak word. Ek het dit op grond van hierdie waarnemings gestel dat sodanige tendenslyne tydreekse se eienskap van voorkeurhellings openbaar. Rigtingveranderings wat by ’n voorkeurhelling gebeur, kan beperk en van korte duur of ’n langdurige verandering in die tendens van die prys wees. 

Verskillende voorkeurhellings kan op ’n prysgrafiek van ’n tydreeks van voldoende lang duur herken word. Voorkeurhellings kom in enkelstaande finansiële instrumente soos die pryse van aandele en kommoditeite voor, maar die verskynsel word ook in wisselkoerse van twee geldeenhede en komplekse saamgestelde indekse van finansiëlemarkpryse waargeneem.

Verskeie gevalle van dieselfde voorkeurhelling van ’n tydreeks word deur ’n stel ewewydige tendenslyne op die prysgrafiek verteenwoordig. Die verspreiding van so ’n stel ewewydige tendenslyne, wat almal in prominente keerpunte van die prysgrafiek geanker is, vertoon ’n struktuur wat in al die finansiële tydreekse ’n bestendige aard het. ’n Besondere eienskap van dié struktuur word hier in voorbeelde van vyf verskillende tydreekse verbeeld. Dit is naamlik dat die verhouding van die twee bane tussen drie ewewydige korrek geplaaste tendenslyne wat dieselfde voorkeurhelling verteenwoordig, dikwels met enkele bekende waardes wat vry algemeen in alle tydreekse gesien word, ooreenstem. 

Met een uitsondering word net maandgemiddelde waardes vir die voorbeelde gebruik. Die tema van die voorbeelde is deurgaans dat ’n bepaalde en duidelik omskrewe algoritme gebruik word om drie ewewydige tendenslyne wat voorkeurhellings verteenwoordig en in prominente keerpunte geanker is en wat ’n kanaalpaar genoem word, te skep. Hierdie voorgeskrewe prosedure lewer by herhaling korrek geplaaste kanaalpare waarvan die kanaalverhoudings goed met enkele van die reeds bekende waardes ooreenstem.

Soos in die voorbeelde gesien sal word, bestaan ’n herkenbare standvastige struktuur in die tydreekse van finansiële markte. Dit sal vir verskeie dissiplines nuwe vrae na vore bring. Hierdie vrae sal slegs kortliks en oorsigtelik genoem word. Die voor die hand liggende verklaring vir die verskynsel van voorkeurhellings is dat dit ’n ontluikende eienskap van finansiële markte as komplekse selfaanpasbare stelsels verteenwoordig.

Trefwoorde: doeltreffendemark-hipotese; Dow Jones-indeks; euro; Fibonacci-verhouding; finansiële markte; goudprys; kompleksiteit; maandgemiddeldes; patroonmatigheid; S&P500-indeks; struktuur in markpryse; Suid-Afrikaanse rand; Switserse frank; tydreekse; voorkeurhellings

 

Abstract

Observations of long-term structure in the time series of financial markets

Click here to read an extended abstract of this article.

 

1. Inleiding

Programmatuur vir die grafiese ontleding van finansiëlemarkpryse is in 1982/83 deur my ontwikkel. Die tegnieke wat ek daarvoor ontwikkel het en wat akkurate tendenslyne insluit, gebruik ek sedertdien om die patroonmatigheid in finansiële tydreekse mee te ondersoek.

Deur tendenslyne op analitiese wyse te gebruik om die patroonmatigheid van prysgrafieke van finansiële tydreekse te ondersoek, het ek reeds vroeg al besef dat markpryse geneig is om langs reguit lyne van rigting te verander (Joubert 1993, 1996). Hierdie verskynsel wat oor alle tydskale van tydreekse waargeneem is, is vertolk as synde ’n inherente eienskap van finansiële markpryse. Daar kan verskillende voorkeurhellings op ’n prysgrafiek van lang genoeg duur herken word. Party voorkeurhellings vertoon ’n sterker mate van wisselwerking met die prominente keerpunte op die prysgrafiek as ander; dit is daaraan toe te skryf dat sekere voorkeurhellings in hierdie opsig dominant ten opsigte van ander voorkeurhellings optree.

Wanneer drie ewewydige tendenslyne wat ’n voorkeurhelling verteenwoordig, in prominente keerpunte van ’n prysgrafiek geanker is, is hulle spasiëring nie lukraak nie. Die verhouding van die twee bane van sodanige kanaalpare kom gereeld met ’n beperkte aantal bekende waardes ooreen. Die bekende kanaalverhoudings wat by herhaling in finansiële tydreekse herken word, word ook as ’n inherente eienskap van die tydreekse van finansiële markte beskou.

Die bekende kanaalverhoudings is gemeenskaplik aan alle sodanige tydreekse ongeag die tydskaal of die aard daarvan. Elke tydreeks vertoon ook kanaalverhoudings wat nie in die bekende reeks val nie. Wanneer hierdie vreemde of onbekende kanaalverhoudings meer as een keer in kanaalpare op die prysgrafiek herken kan word, bevestig dit dat hulle saam met die bekende kanaalverhoudings ook as ’n eienskap van daardie tydreeks beskou kan word.

Die verskillende voorkeurhellings van ’n finansiële tydreeks vertoon ’n onderlinge verband wat beteken hulle waardes is ook nie lukraak nie. Indien ’n bekende voorkeurhelling met die Fibonacci-verhouding vlakker of steiler gemaak word, is die resultaat van die berekening weer ’n voorkeurhelling van daardie tydreeks. Op grond van hierdie verwantskap tussen die voorkeurhellings, asook ander waarnemings van die bestendige aard van die verskynsel, kon ’n gedissiplineerde metodiek vir die ontleding van patroonmatigheid in finansiële tydreekse ontwikkel word. Hierdie metodiek is doelgerig vir die skep van die voorbeelde ingeperk en aangepas om eienskappe van die kanaalstruktuur in finansiële tydreekse volgens ’n streng algoritme op geloofwaardige wyse bloot te lê.

Die maandgemiddelde tydreekse van die daaglikse sluitingswaardes van vier finansiëlemarkveranderlikes is vir die voorbeelde gebruik. Hulle is Standard & Poor se indeks van 500 top aandele op die New Yorkse aandelebeurs, die goudprys in euro, die Switserse frank / VSA-dollar-koers en die dollar/rand-koers. Die Dow Jones-nywerheidsgemiddelde se daaglikse sluitingswaardes is die vyfde markveranderlike wat vir die voorbeelde gebruik word. Die bron vir die tydreekse se geskiedenis is die Federale Reserwe se databasis in St Louis en ook die Sentrale Bank van Brasilië se databasis (FRED, Quandl). Al die tydreekse word vanaf hulle begindatum gebruik.

Die prysgrafieke van maandelikse tydreekse vertoon minder uitstaande keerpunte as wat met daaglikse of selfs weeklikse tydreekse van soortgelyke duur die geval is. Die skraler voorkoms en wyer verspreiding van duidelike keerpunte op maandgrafieke beperk die keuse van ankerpunte wat vir tendenslyne gebruik kan word, wat die geloofwaardigheid van die voorbeelde verbeter. 

Dit word reeds lank in die teorie van finansiële markte aanvaar dat die geskiedenis van ’n markprys nie gebruik kan word om die toekomstige verloop daarvan te voorspel nie (Malkiel 2003). Sou die bestendige struktuur in finansiële tydreekse wat in die voorbeelde gesien word wel bestaan, sal dit in beginsel die voorspelbaarheid van pryse se toekomstige verloop impliseer; iets waarvoor daar op die oomblik geen voorsiening in die teorie gemaak word nie. Die vir my beskikbare literatuur bevat dan ook geen bespreking van die bestaan van struktuur of enige reëlmaat in pryse van finansiële markte nie. Pines (2014) se beskrywing van ontluiking dien as ’n riglyn vir die moontlike verklaring van die verskynsel:

When electrons or atoms or individuals or societies interact with one another or their environment, the collective behavior of the whole is different from that of its parts. We call this resulting behavior emergent. Emergence thus refers to collective phenomena or behaviors in complex adaptive systems that are not present in their individual parts.

 

2. Agtergrond oor die verskynsel van voorkeurhellings 

Die moontlike bestaan van struktuur in tydreekse van finansiële markte is meer as 20 jaar gelede reeds beskryf (Joubert 1993, 1996). Die programmatuur was toe egter onvoldoende om die verskynsel indringend te bestudeer. ’n MCom-verhandeling het die verskynsel as die eenvoudige aanname dat ewewydige tendenslyne wat in prominente keerpunte geanker is, eweredig gespasieer sal wees, statisties ondersoek. Dit het bevind dat die waarskynlikheid dat struktuur wel bestaan, nie uitgesluit kan word nie (Beukes 2011).

In die praktyk word tendenslyne op prysgrafieke hoofsaaklik as raaklyne aan die prysgrafiek getrek om weerstands- en steunvlakke te wys (Murphy 1999:49–59; Pring, hfst. 8). ’n Markprys wat vir ’n geruime tyd heen en weer tussen twee ewewydige tendenslyne beweeg om verhandelingskanale te vorm, is reeds lankal welbekend. Sulke kanale word egter nie as ’n inherente eienskap van tydreekse beskou nie (Pring 2002:148–50; Murphy 1999:80–5; Edwards 2007:301–3). W.D. Gann (Marisch 1996:29–40) grond sy metodiek op aannames oor ’n standhoudende verband tussen prys en tyd. 

Die beperkte rol van tendenslyne in die ontleding van prysgrafieke word bevestig deur die feit dat vooraanstaande programmatuur vir die grafiese ontleding van pryse in finansiële markte (MetaTrader 5 2020) gebruikers net in staat stel om tendenslyne slegs by benadering aan ’n prysgrafiek op die rekenaarskerm te pas. Dit bevestig dat tendenslyne nie normaalweg vir akkurate analitiese ondersoek van grafieke gebruik word nie. 

Daar is wel sekere metodieke en tegnieke reeds geruime tyd in gebruik om patroonmatige eienskappe van tydreekse mee te ontleed. Hulle herhaalbaarheid is egter nie voldoende om akademiese erkenning te ontvang nie. W.D. Gann het in sy boek How to make profits trading in commodities: A study of the commodity market (Gann 1942) die aanname dat markpryse geneig is om by herhaling langs ’n sekere vaste helling rigting te verander as vertrekpunt gehad – ’n waarneming wat op voorkeurhellings van toepassing is. Gann het egter nie toegang tot rekenaartegnologie gehad nie en kon nie sy metodiek beter as net ’n rigiede matriks wat bo-oor ’n prysgrafiek superponeer word, verfyn nie. ’n Rigiede matriks is egter nie akkuraat of plooibaar genoeg om die komplekse struktuur van die verskynsel van voorkeurhellings mee te ondersoek nie. Elliott se golfteorie soos in sy boek The wave principle (1938, Investopedia) beskryf ’n patroonmatigheid in prysbewegings wat egter nie van tendenslyne gebruik maak nie.

Die kennis van die eienskappe van voorkeurhellings wat reeds opgebou is, is voldoende om aspekte daarvan as riglyne vir die ontleding van prysgrafieke op te stel. Die metode wat normaalweg vir die ontleding van die verskynsel van voorkeurhellings gebruik word, is dan ook gegrond in eienskappe van voorkeurhellings wat bekend is, en dit lewer goeie resultate. ’n Strenger weergawe hiervan is vir die voorbeelde gebruik.

Wanneer ’n bekende voorkeurhelling herhaaldelik met die Fibonacci-verhouding steiler of vlakker gemaak word om weer ’n voorkeurhelling te lewer, is die resultaat ’n waaier wat uit verskillende voorkeurhellings bestaan. Naasliggende voorkeurhellings in die waaier verskil 61,8% van mekaar en die waaier kan van enige lid daarvan herskep word. Daarom word so ’n waaier ’n voorkeurhellingfamilie genoem. In finansiële tydreekse van betreklik lang duur kan etlike verskillende voorkeurhellingfamilies herken word; ’n boperk vir die aantal families wat mag bestaan, is nie bekend nie.

In die voorbeelde word slegs tendenslyne met hellings van een familie gebruik. Dit beperk die vryheid van keuse watter hellings in die ontleding gebruik kan word, en die resultate wat so behaal word, is van hoë gehalte wanneer tendenslyne van ’n dominante familie gebruik word.

Die bronkode van programmatuur wat spesifiek in ’n vorm van BASIC ontwikkel is om die voorbeelde volgens die voorgeskrewe algoritme te herskep, sal op die internet geplaas word. Tydreekse wat vir die voorbeelde gebruik is, sal ook beskikbaar wees, of die oorspronklikes kan op die internet gevind word. Eie tydreekse kan ook ondersoek word.

Die term tendenslyn of lyn met verwysing na die voorbeeld verteenwoordig voortaan en deurgaans een van die voorkeurhellings van die tydreeks. Meervoude daarvan verwys na gelang van die omstandighede na ’n stel ewewydige tendenslyne of na ’n versameling van verskillende voorkeurhellings.

 

3. Wisselwerking tussen prys en voorkeurhelling en die ontledingsmetode

Deur studie van die verskynsel is bevind dat alle prysveranderings op ’n prysgrafiek wys waar wisselwerking tussen die prys en voorkeurhellings plaasgevind het. Met voldoende ontleding kan elke verandering in die prys, hetsy groot of klein, aan die teenwoordigheid van een of meer verskillende voorkeurhellings gekoppel word. Daar is twee patrone in besonder wat dien as aanduiding van waar voorkeurhellings in prysgrafieke geleë is. Hierdie patrone word in Diagram 3.1 gewys. Dit is afgesien van duidelike hoogte- of laagtepunte.

3.1 Die wisselwerking tussen die prys en voorkeurhellings

Diagram 3.1. Standaardwyse van wisselwerking tussen prys en voorkeurhelling 

Die tendenslyne V1 en V2 in Diagram 3.1 verteenwoordig twee voorkeurhellings waarvan V1 ’n reeds bekende voorkeurhelling is en V2 se bestaan nog nie herken is nie. In beginsel kan die rolle omgekeer word sodat V2 reeds as voorkeurhelling herken is en V1 se bestaan nog onbekend is. Die skemas A en B in die diagram wys hoe die prys tydens wisselwerking met die twee voorkeurhellings van rigting verander. Die eerste skema is gewoonlik ’n tydelike en dikwels beperkte verandering, terwyl die tweede een in die meeste gevalle met ’n meer langdurige omkeer in die hooftendens gepaard gaan. 

Die wisselwerking tussen prys en voorkeurhellings soos skema A van die diagram wys, word as ’n totsiensgroet op V1 beskryf. Die reaksie by die bekende voorkeurhelling V1 dui eerstens daarop dat die voorkeurhelling deur die rigtingverandering daarteen bevestig word. Verder dui dit op die teenwoordigheid van een of meer nog onbekende voorkeurhellings waar die prys teen die voorkeurhelling V2 die omkeer na onder maak.

Die meer komplekse wisselwerking van skema B ontwikkel dikwels ná ’n volgehoue styg- of daaltendens. ’n Gevurkte keerpunt, hetsy as laagtepunt soos in die diagram gewys word of as die spieëlbeeld wat ’n hoogtepunt is, dien gewoonlik om die rigting van die tendens om te swaai. Die twee onderste keerpunte van die gevurkte laagtepunt wat teen voorkeurhelling V2 plaasvind, hoef nie albei teen die dieselfde voorkeurhelling plaas te vind nie. Gevurkte hoogtepunte is vertikale spieëlbeelde van Diagram 3.1 B.

Die sentrale keerpunt van gevurkte patrone waar die prys in Diagram 3.1B by voorkeurhelling V1 ’n omkeer maak asof dit ’n totsiensgroet soos in Diagram 3.1A kon word, vind dikwels plaas by ’n voorkeurhelling wat lid van ’n dominante familie is. Sulke sentrale keerpunte van gevurkte patrone is daarom ook geskik om as ankerpunte vir meesterhellings en afgeleide tendenslyne te dien. 

Diagram 3.1 wys twee eenvoudige skemas van die wisselwerking tussen ’n prys en voorkeurhellings. Beide die totsiensgroet en die gevurkte patrone ondergaan dikwels in die praktyk meer verwikkelde prysveranderings en kan van langer duur wees voordat die patroon voltooi is.

3.2 ’n Metode vir die ontleding van voorkeurhellings

Duidelike riglyne gegrond in kennis van die verskynsel is vir die ontwerp van die voorbeelde vooropgestel. Die riglyne beskryf ’n gestruktureerde algoritme wat die doel het om slegs kanaalpare met kanaalverhoudings wat met bekende waardes ooreenstem, te lewer. Hierdie algoritme word streng op die vyf tydreekse toegepas met die aanname dat kanaalpare met kanaalverhoudings wat bekende waardes het, in elke tydreeks bestaan.

Om hierdie aanname sinvol te toets, vereis die volgende voorwaardes vir die metodiek: eerstens dat net tendenslyne wat lede van dieselfde familie voorkeurhellings is, gebruik word; tweedens dat die tendenslyne wat gebruik word, uitsluitlik in aanvaarbare keerpunte op die prysgrafiek geanker sal wees; derdens dat die toets streng opgestel word deur net die drie meer bekende kanaalverhoudings wat in alle tydreekse gesien word, in ag te neem; en vierdens moet die tydreekse in hulle geheel gebruik word om keusevoorkeur uit te sluit. 

Die mate waartoe onder die verskillende omstandighede van die vyf tydreekse wat in die voorbeelde gebruik word in hierdie doel geslaag kan word, sal dien om die voorkoms van kanaalpare wat tipies van die verskynsel in finansiële tydreekse is, te bevestig al dan nie. Sukses sal beteken dat die twee eienskappe wat in die algoritme verteenwoordig word, wel die aard van die verskynsel korrek vertolk.

Ontleding van voorkeurhellings lewer beter standhoudende strukture wanneer daar slegs van lede van ’n dominante familie voorkeurhellings gebruik gemaak word. Daardie hellings is geneig om dikwels prominente keerpunte op die prysgrafiek te raak. Verder is dominante voorkeurhellings se wisselwerking met die prys gewoonlik ook bestendig oor langer duur as wat met hellings van ander families die geval is.

Daarom moet elke voorbeeld met die definisie van ’n geskikte meesterhelling begin word. Die hellings van al die ander tendenslyne in die ontleding sal dan daarvan afgelei word om lede van net een familie te wees. Die meesterhelling word bepaal deur ’n tendenslyn tussen twee uitstaande keerpunte of ander belangrike punte op die prysgrafiek te trek. Die twee punte moet nie naby mekaar geleë wees nie, om die waarskynlikheid dat dit ’n dominante familie voorkeurhellings sal verteenwoordig, te verhoog.

Die twee ankerpunte wat vir die meesterhelling gebruik word, kan albei twee hoogtepunte of twee laagtepunte wees; een kan ook ’n hoogtepunt wees en die ander een ’n laagtepunt. Die sentrale punt van ’n gevurkte patroon is ook aanvaarbaar, en dit is bevind dat die eerste datapunt van ’n tydreeks ook ’n belangrike punt vir die verdere verloop van die prys is. Hoe langer die tydsverloop tussen die meesterhelling se twee ankerpunte is, hoe groter word die waarskynlikheid dat dit ’n bruikbare meesterhelling sal wees.

Kanaalverhoudings wat by herhaling in ontledings van finansiële tydreekse voorkom, sluit die volgende in: die 500:500-verhouding van ’n hoofkanaal wat in twee gelyke bane verdeel is en die 382:618-Fibonacci-verhouding. Naas hierdie twee verhoudings wat gewoonlik die meeste gesien word, is daar die vier rondegetalverhoudings 400:600, 300:700, 200:800 en 100:900. Die laaste drie hiervan kom minder dikwels tydens ontledings voor, moontlik omdat daar tydens die proses van ontleding ’n voorkeur vir kanale met meer gebalanseerde kanaalverhoudings is. Vir die doel van die toets sal net die volgende verhoudings aanvaar word: die 500:500-, 382:618- en 400:600-verhoudings.

’n Duimreël wat reeds lank in gebruik is, stel dit dat ’n kanaalpaar se kanaalverhouding met ’n bekende verhouding ooreenstem wanneer hulle slegs in die derde desimaal van mekaar verskil. Die akkuraatheid van ±1% as arbitrêre besluit in die lig van bestaande kennis van die verskynsel het tot dusver aanvaarbare resultate gelewer.

 

4. Oorwegings by die ontwerp van die voorbeelde

Die voorbeelde moet aan twee vereistes voldoen. Eerstens moet daar genoeg verskeidenheid wees om te staaf dat die ontledings nie ’n sekere patroon gevolg het wat die gewenste resultate lewer nie. Tweedens moet daar gemeenskaplikheid in die resultate wees om te demonstreer dat die strukture nie die gevolg van toeval is nie, maar betekenend van ’n veralgemeende en bestendige meganisme wat hiervoor verantwoordelik is, wat dit ook al mag wees.

Die doelwit van verskeidenheid word afgesien van verskille in die ontledings veral deur die gebruik van verskillende tydreekse bereik. Gemeenskaplikheid sal volg uit ooreenstemming tussen kanaalverhoudings van kanaalpare wat onder verskillende omstandighede geskep is, maar wat deurgaans van dieselfde streng beperkende algoritme gebruik maak.

4.1 Die metode vir die skepping van die voorbeelde

Enkele aspekte van hierdie verskynsel wat lank genoeg waargeneem is om as eienskappe van finansiële tydreekse aanvaar te word, is by die omskrywing van die metodiek vir die skep van al die voorbeelde in ag geneem. Dit sluit die volgende in:

  • Voorkeurhellings wat lede van dominante families is, is geneig om die prominente keerpunte op die prysgrafiek te raak en te verbind.
  • Prominente keerpunte wat ’n voorkeurhelling raak, kan hoogtepunte, laagtepunte of die sentrale punte van gevurkte omkeerpatrone wees; veral tydelike algehele hoogte- en laagtepunte in die prysgeskiedenis word as prominent gereken en dit sluit die eerste datapunt van ’n tydreeks en raaklyne aan die prysgrafiek ook in.
  • Voorkeurhellings wat lede van net een familie is, se hellings verskil minstens 61,8% van mekaar; dit is dus nie moontlik om aanpassings aan ’n kanaalpaar se helling te maak om die kanaalverhouding effens te verander nie. 
  • Kanaalpare waarvan die helling van die ewewydige tendenslyne lid van ’n dominante familie voorkeurhellings is en al drie tendenslyne in uitstaande keerpunte geanker is, is geneig om kanaalverhoudings wat met die bekende reeks waardes ooreenstem, te hê. 

Die algoritme is ’n proses van verkenning wat begin met die definisie van ’n meesterhelling. Dit beperk die afgeleide hellings wat vir die voorbeeld gebruik kan word tot net een familie. Geskikte afgeleide hellings word dan getoets om kanaalpare in verskillende kombinasies van drie aanvaarbare ankerpunte te skep en aan te teken watter helling en stel ankerpunte een van die gevraagde kanaalverhoudings lewer. Daar mag toevallig kanaalpare wees wat aan die voorwaardes voldoen, maar indien al vyf tydreekse ’n voldoende aantal kanaalpare met een of meer van die drie voorgeskrewe kanaalverhoudings kan lewer, sal so ’n uitslag die waarskynlikheid dat toeval die verklaring vir almal bied, verlaag. 

Die programmatuur maak dit moontlik om elke datapunt in die prysreeks op die prysgrafiek met behulp van ’n merker wat langs die prysgrafiek beweeg, individueel aan te spreek. Deur so twee paslike datapunte op die prysgrafiek te kies, kan hulle koördinate gebruik word om ’n tendenslyn akkuraat met die korrekte helling te trek. Nadat ’n meesterhelling getrek is, kan die merker na ander punte op die prysgrafiek beweeg word om daar in ’n gekose punt ’n nuwe tendenslyn met ’n helling wat volgens keuse van die meesterlyn se helling afgelei is, te trek. 

Die afgeleide tendenslyn se helling kan dieselfde as die meesterhelling wees, of dit kan ’n helling wees wat met een of meer toepassings van die Fibonacci-verhouding steiler of vlakker gemaak is en met dieselfde of ’n omgekeerde teken. Drie ewewydige afgeleide tendenslyne in prominente keerpunte geanker vorm ’n kanaalpaar wat met regte keuse van die afgeleide helling en die drie ankerpunte ’n bekende kanaalverhouding behoort te lewer. 

Dit kan nie voorsien word dat alle kombinasies van afgeleide helling en drie ankerpunte ’n bekende helling sal lewer nie. Die doel van hierdie toets is egter om te demonstreer dat onder verskillende omstandighede en met ’n beperkende prosedure etlike kanaalpare wel op elke prysgrafiek gevind kan word wat met net drie bekende kanaalverhoudings ooreenstem.

Wanneer hierdie prosedure korrek toegepas word, is ’n kanaalpaar se kanaalverhouding ’n funksie van die koördinate van die twee ankerpunte wat vir die meesterhelling gebruik is en die koördinate van die ankerpunte van die kanaalpaar se tendenslyne. Die presiese helling wat vir die afgeleide tendenslyne gebruik word, word ook deur die twee stelle koördinate van die meesterhelling se ankerpunte en die Fibonacci-verhouding bepaal. Die resultate se geloofbaarheid word dan uitsluitlik bepaal deur eerstens die keuse van die meesterhelling se twee ankerpunte en daarna die aard van die kanaalpaar se drie ankerpunte. 

Die vyf stelle koördinate van die ankerpunte wat vir die definisie van die meesterhelling en vir die drie afgeleide tendenslyne gebruik is, moet in ’n spesifieke verband tot mekaar staan om ’n kanaalpaar met een van die drie bekende kanaalverhoudings te lewer. Dit geld ook indien een of meer van die afgeleide tendenslyne ’n ankerpunt met die meesterhelling deel. Wanneer meer as een kanaalpaar suksesvol van dieselfde meesterhelling afgelei kan word, vergroot dit die aantal stelle koördinate wat in ’n verband tot mekaar betrek word om die hele ontleding moontlik te maak. Dit geld veral wanneer die kanaalpare se afgeleide hellings van mekaar verskil. Die waarskynlikheid dat die verband tussen die koördinate van soveel prominente keerpunte vir verskillende afgeleide hellings van een meesterhelling lukraak kan wees, word dan verder verminder.

Die strukture in die voorbeelde bestaan feitlik uitsluitend uit kanaalpare van drie ewewydige tendenslyne met betreklik min kanaalstelle wat uit meer as drie tendenslyne bestaan. Dit is so gedoen om die voorbeelde nie oormatig met tendenslyne te bevolk nie. Verder beteken dit die kanaalpare wat wel in die voorbeelde gebruik is, moet kan oortuig dat hulle nie lukraak tussen ’n wye keuse moontlikhede uitgesoek is nie. Ongelukkig verhoed dit die voorkoms van simmetrie in die spasiëring tussen vier en meer tendenslyne. Die simmetrie van drie of meer naasliggende bane in ’n kanaalstel is ’n eienskap van die verskynsel wat eerder op struktuur as toeval vir die verklaring dui. 

Twee vrae sal deur hierdie toets beantwoord moet word. Eerstens: Sal daar met die beperkings wat geld, ’n voldoende aantal gevalle van die gevraagde kanaalverhoudings in al vyf die tydreekse gevind word om hierdie eienskap as inherent aan tydreekse van finansiële pryse te bevestig? Tweedens: Sal die S&P500-tydreeks wat in meer as een voorbeeld met gebruik van verskillende meesterhellings ontleed is, bevestig dat die gewenste resultate nie deur die keuse van die meesterhelling beïnvloed word nie?

 

5. Voorbeelde

Een voorbeeld van elk van vier tydreekse gebruik die maandgemiddelde tydreeks van die Switserse frank / VSA-dollar-wisselkoers, die dollar-rand-wisselkoers, die prys van goud in D-mark vanaf 1971 en daarna in euro vanaf 1999. Vier voorbeelde maak van die S&P500-indeks se maandgemiddelde tydreeks gebruik en een van die daaglikse sluitingswaardes van die Dow Jones-nywerheidsgemiddelde.

Voorbeeld 5.1. Switserse frank / VSA-dollar-wisselkoers

Voorbeeld 5.1. Maandgemiddelde Switserse frank / VSA-dollar-koers vanaf Januarie 1971 tot November 2019

Die rooi tendenslyn M, wat die meesterhelling verteenwoordig, se twee ankerpunte wat in Oktober 1978 en in Augustus 2011 23 jaar later geleë is, word met ’n x aangedui. Dit tree as ’n akkurate raaklyn aan etlike keerpunte langs die onderkant van die prysgrafiek op. Hierdie raakpunte bevestig dat hierdie tendenslyn en sy afgeleide hellings voorkeurhellings verteenwoordig.

Daar word van ’n duimreël gebruik gemaak om te bepaal of ’n keerpunt naby genoeg aan ’n tendenslyn is om dit as ’n raakpunt aan die tendenslyn te aanvaar. Die verskil tussen die keerpunt en die tendenslyn moet dan minder as 0,5% wees, uitgedruk teenoor die vertikale skaal van die grafiek. Die verskil word so genormaliseer om vergelyking tussen verskillende grafieke moontlik te maak. Die persentasie word deurgaans opgerond na twee desimale. 

Van die nege keerpunte, groot en klein, wat by drie geleenthede naby die meesterlyn gesien kan word, is drie wat met ’n punt aangedui word, nie binne 0,5% van die tendenslyn nie. Die breek na onder die tendenslyn by die tweede punt wat so gemerk is, is presies 0,5% deur die lyn, terwyl die derde gemerkte keerpunt 1,4% bokant die lyn is. Dit dien om ’n begrip van die keerpunte naby ’n tendenslyn wat ’n raakpunt mag wees, by die leser te vestig. Dit is egter nie die doel van die ondersoek om keerpunte wat raakpunte aan tendenslyne mag wees op te soek nie. 

Die ankerpunte van die afgeleide tendenslyne B, C, Q, R en S word met ’n o aangedui. Die twee tendenslyne A van kanaalpaar ABC en P van kanaalstel PQRS is in die oorsprong van die tydreeks geanker en is nie op die grafiek sigbaar nie. Kanaalstel PQRS bestaan uit twee oorvleuelende kanaalpare en die voorbeeld se drie kanaalpare wat in vetdruk verskyn om leesbaarheid te verbeter se kanaalverhoudings is: ABC 384:616, PQR 506:494 en QRS 602:398.

Al drie kanaalverhoudings stem met die voorgeskrewe waardes ooreen; paar ABC met die 382:618 van die Fibonacci-verhouding en die ander twee kanaalpare met die 500:500- en 600:400- bekende verhoudings. Tendenslyne P en S is albei raaklyne aan die tydreeks. Dit beteken dat die binnelyne van kanaalstel PQRS onder bykomende beperkings ten opsigte van die keuse van hulle ankerpunte staan, want die ankerpunte van hierdie tendenslyne moet twee verskillende kanaalverhoudings bevredig.

Die meesterhelling se twee ankerpunte is bo verdenking as twee prominente laagtepunte op die prysgrafiek en die tendenslyn pas ook as raaklyn aan ander laagtepunte. Die ankerpunte van al die afgeleide tendenslyne is alleenstaande en prominente keerpunte wat nie met nabygeleë keerpunte verwar kan word nie. Tendenslyn R verskil van die middelpunt van die gevurkte hoogtepunt as 1 gemerk met 0,05% wat dit as ’n raakpunt bevestig. 

Dit volg dat die ankerpunte van die meesterhelling en die drie ankerpunte van kanaalpaar ABC waarvan die helling van die meesterhelling afgelei is, ’n spesifieke verband tot mekaar deel om kanaalpaar ABC se kanaalverhouding met die Fibonacci-verhouding ooreen te laat stem. Eweneens staan die meesterhelling se ankerpunte en die ankerpunte van tendenslyne P, Q, R en S ook in ’n spesifieke verband tot mekaar. Dit volg verder dat indien die eerste datapunt en die ander vyf keerpunte wat as ankerpunte gebruik is se koördinate in terme van tyd en prys meer as net minimaal anders was, hierdie voorbeeld nie geskep sou kon word nie. Al die ankerpunte wat gebruik is, deel daarom ’n gemeenskaplike verband. 

Voorbeeld 5.2. S&P500-meesterhelling tussen die 1929- en 1987-hoogtepunte

Voorbeeld 5.2. S&P500 (1) Maandgemiddelde vanaf Januarie 1871 tot Junie 2018

Voorbeeld 5.2 se meesterhelling is tussen die 1929- en 1987-hoogtepunte soos met ’n x aangedui, getrek. Met ’n tydsverskil van 58 jaar is die twee ankerpunte lank genoeg van mekaar verwyder om ’n akkurate meesterhelling te skep. Die kanaalpaar XYM is ewewydig aan die meesterhelling met ankerpunte soos aangedui. Kanaalpaar PQR se eerste twee tendenslyne is saam met die meesterhelling in die 1929- en 1987-hoogtepunte geanker. Tendenslyn R is saam met die tendenslyne X en D in die algehele hoogtepunt in Januarie 2018, wat net enkele maande lank so gegeld het, geanker. Ook tendenslyn Y is in ’n duidelike keerpunt in die stygmark vanaf 2009 tot 2018 geanker.

Die kanaalstel ABCD bestaan uit twee oorvleuelende kanaalpare ABC en BCD waarvan die tendenslyne A en B met ’n vlakker afgeleide helling as kanaalpaar PQR ook in die 1929- en 1987-hoogtepunte geanker is. Tendenslyn C is in die sentrale punt van die 2007- gevurkte hoogtepunt geanker en dit is ’n lid van albei kanaalpare. 

Die kanaalverhoudings van die vier kanaalpare is: ABC 500:500, BCD 500:500, PQR 398:602 en XYM 380:620.

Die kanaalstel ABCD is simmetries, met al drie bane daarvan ewe wyd. Dit bevestig dat die tendenslyn C korrek geplaas is. Kanaalpaar PQR stem met die bekende 400:600-verhouding ooreen en kanaalpaar XYM verskil min van die Fibonacci-verhouding. Hierdeur word die Januarie 2018-hoogtepunt as ’n prominente keerpunt vir drie kanaalpare bevestig. 

Die koördinate in terme van tyd en prys van die besondere hoogtepunte in 1929, 1987 en Januarie 2018 definieer ’n verwysingsraamwerk vir die familie voorkeurhellings wat van die meesterhelling tussen die 1929- en 1987-hoogtepunte afgelei is. Die tendenslyne A en P asook B en Q deel ankerpunte met die meesterhelling, terwyl die kanaalpaar XYM direk die meesterhelling betrek. Dus is al drie die kanaalstelle ABCD, PQR en XYM almal integraal deel van daardie raamwerk. Net vyf keerpunte word as ankerpunte vir die 10 tendenslyne in die voorbeeld gebruik om vier kanaalpare mee te skep. Geeneen van die vyf keerpunte se koördinate kan selfs net minimaal verander word sonder om die geheel van die voorbeeld met die kanaalpare wat bekende verhoudings het, te versteur nie.

Voorbeeld 5.3. Goudprys in D-mark en euro – aangepas

Voorbeeld 5.3. Maandgemiddelde goudprys in D-mark en euro vanaf Januarie 1971 tot April 2020 

’n Historiese tydreeks van die D-mark–dollarkoers is op so ’n wyse by die euro-VSA dollarkoers bygewerk dat die D-mark (Duitsland se geldeenheid voor die euro) gladweg met die euro se koers teen die VSA-dollar saamsmelt. Die maandgemiddelde van die nuwe wisselkoers is hier gebruik. Ontleding van hierdie saamgestelde tydreeks vertoon duidelike kanaalstrukture oor die volle bereik daarvan, maar dit word nie hier gewys nie.

Vir Voorbeeld 5.3 is hierdie tydreeks gebruik om die prys van goud vanaf 1971 effektief in euro te bereken. Die meesterhelling is tussen die eerste datapunt en die voormalige hoogtepunt in September 2012 getrek en dit strek uit die tydperk vanaf die D-mark tot nadat die euro as geldeenheid oorgeneem het.

Die breë kanale AC en XZ omsluit elkeen omtrent die geheel van die prysgrafiek wat oor nagenoeg 60 jaar strek. Al vier tendenslyne kan as raaklyne aan die grafiek beskou word. Tendenslyn Z is as raaklyn aan laagtepunte van die prysgrafiek getrek. Dit beweeg effens bokant die eerste datapunt verby, wat nog laer is. Indien lyn Z se ankerpunt na die eerste datapunt verskuif sou word om ’n egte raaklyn te wees, sou die verhouding van kanaalpaar XYZ van 382:618 na 379:821 verander om steeds goed met die Fibonacci-verhouding ooreen te stem.

Die kanaalverhoudings is: ABC 499:501, PQR 395:605 en XYZ 379:621.

Twee van die verhoudings stem met die 500:500- en 400:600-verhoudings ooreen en die derde met die Fibonacci-verhouding.

Met die twee buitenste tendenslyne van die kanaalpare wat die hele prysgrafiek omsluit en as raaklyne nie verskuif kan word nie, word die plasing van kanaalpare ABC en XYZ se binnelyne van kardinale belang. Tendenslyn B is in die sentrale punt van ’n gevurkte laagtepunt geanker. Tendenslyn Y se ankerpunt is die eerste regstelling ná ’n lang been van die 2005–2012-stygmark en ontvang ook ’n totsiensgroet voordat die stygmark voortgesit word. Dit is soortgelyk aan lyn Y in Voorbeeld 5.2. Beide hierdie ankerpunte is uitstaande genoeg om gebruik te kan word.

Die verskil tussen tendenslyne C en X by die twee keerpunte as 1 en 2 gemerk, is onderskeidelik 0,03% en 0,07%. Indien tendenslyn X na die hoogtepunt met die X gemerk verskuif sou word, verander kanaalpaar XYZ se verhouding na 399:601. 

Voorbeeld 5.4. S&P500-meesterhelling tussen eerste datapunt en 2020-hoogtepunt

Voorbeeld 5.4 gebruik die S&P500-tydreeks vanaf die eerste datapunt in 1871 tot die nuutste algehele hoogtepunt in Januarie 2020. Die maandgemiddelde van die tydreeks vir Februarie 2020 teen 3277,31 is effens minder as die waarde van Januarie 2020 teen 3278,20. Met die effek van die COVID-19-virus op die aandelebeurs in New York kan sekerlik verwag word dat die waarde vir Januarie 2020 ’n geruime tyd die algehele hoogtepunt sal bly.

Voorbeeld 5.4 bestaan uit ses kanaalpare en een kanaalstel van vier tendenslyne. Albei die buitelyne van die kanaalpare en kanaalstel is raaklyne aan die prysgrafiek en is in die eerste datapunt en die Januarie 2020-hoogtepunt gesetel. Kanaalpaar MAB strek langs die tendens van die prysgrafiek. Die ander tendenslyne wat dwars oor die prysgrafiek loop, is van 1 tot 6 genommer, elkeen met ’n eie kleur. Die kanaalverhoudings van al die kanaalpare word dus slegs deur die plasing van hulle binnelyne bepaal. Die binnelyne van die kanaalpare asook die twee binnelyne van kanaalstel 4 is in uitstaande keerpunte op die prysgrafiek geanker; twee pare tendenslyne in beide die hoogtepunte van 1929 en 1987 en twee ander tendenslyne in die 2007-hoogtepunt en 2009-laagtepunt van die prysgrafiek se sentrale gedeelte. 

Die kanaalverhoudings van die kanaalpare is: MAB 617:383, 111 594:406, 222 320:680, 333 406:594, 444a 290:710, 444b 616:384, 555 496:504 en 666 593:407.

Voorbeeld 5.4. S&P500 (2) Maandgemiddelde vanaf Januarie 1871 tot Januarie 2020

Tendenslyn A van kanaalpaar MAB is in ’n tydelike en kortstondige algehele hoogtepunt kort voor die Augustus 2000-hoogtepunt geanker. Dit is ’n gevurkte hoogtepunt. Die eerste van die twee sentrale punte daarin is net té ver van die tendenslyn om ’n raakpunt te wees. Sou lyn A se ankerpunt na daardie sentrale punt verskuif word, verander die kanaalverhouding van 617:383 na 619:381, wat ewe goed is. 

Van die agt kanaalverhoudings stem drie met die Fibonacci-verhouding ooreen en vier met die bekende 400:600-kanaalverhouding. Die eerste kanaalpaar van die kanaalstel 444 met die eerste tendenslyn in die eerste datapunt geanker se kanaalverhouding verskil rakelings té veel van die bekende 300:700-verhouding, maar dit sou in elk geval nie vir die toets in aanmerking gekom het nie. Dat net die ankerpunt van tendenslyn A enigsins aanvegbaar kan wees, beteken dat voorbeeld 5.4 suksesvol aan die doelstelling in afdeling 4.1 vir die voorbeelde se ontwerp presteer. 

Voorbeeld 5.5. VSA-dollar/SA-rand-koers

Voorbeeld 5.5 bevat vier kanaalpare: ABC, PQR, MXY en UVW. Die meesterhelling is tussen die eerste datapunt en die algehele hoogtepunt in Januarie 2016 getrek. Kanaalpare ABC en MXY se buitelyne is almal raaklyne aan die prysgrafiek met die gevolg dat hul kanaalverhoudings slegs deur die plasing van tendenslyne B en X bepaal word. Lyn X is in ’n ou gevurkte laagtepunt geanker toe die rand nog waarde gehad het, terwyl lyn B in ’n meer onlangse vlak gevurkte hoogtepunt se middelpunt geanker is. Lyn X beweeg binne 0,24% van daardie middelpunt verby, maar kom nader as 0,03% aan die prysgrafiek by die regterpiek van die gevurkte hoogtepunt. Kort nadat dit deur lyn Q beweeg, raak lyn X ook ’n keerpunt binne 0,07%.

Voorbeeld 5.5. Maandgemiddelde VSA-dollar/SA-rand-koers vanaf Januarie 1971 tot Januarie 2020

Kanaalpaar PQR omvat die vlugtige beermark in die rand sedert 1985. Kanaalpaar UVW is geleë tussen die twee hoogtepunte op die prysgrafiek in Desember 2001 en Januarie 2016 toe die rand by twee geleenthede waarde verloor het. Die kanaalpaar se drie tendenslyne is in hoogtepunte van die prysgrafiek geanker met tendenslyn V wat in die middelpunt van ’n gevurkte hoogtepunt geleë is. Tendenslyn R dien as raaklyn van die stygmark sedert die laagtepunt in Maart 2018.

Die kanaalverhoudings van die vier kanaalpare is: ABC 502:498, MXY 496:504, PQR 382:618 en UVW 399:601. 

Indien tendenslyn B vanuit die middelpunt van die gevurkte hoogtepunt opeenvolgend na die twee pieke weerskante geskuif word, verander die kanaalverhouding van kanaalpaar ABC van 502:498 na 482:518 en 500:500 onderskeidelik. Die verskil tussen die middelpunt en die tweede hoogtepunt is klein genoeg om steeds die middelpunt as die ankerpunt vir lyn B te verkies. Eweneens, sou tendenslyn V opeenvolgend na die hoogtepunte geskuif word, sal kanaalpaar UVW se kanaalverhouding van 399:601 na 394:606 en 589:411 onderskeidelik verander. Die gevurkte hoogtepunt se middelpunt is hier dus die korrekte ankerpunt.

Kanale AC en MY word deur tendenslyne B en X in twee nagenoeg gelyke dele verdeel. Die kanaalpaar PQR se verhouding stem met die Fibonacci-verhouding ooreen en kanaalpaar UVW is in die 400:600-verhouding verdeel.

Voorbeeld 5.6. S&P500-meesterhelling tussen eerste datapunt en 1929-hoogtepunt

Voorbeeld 5.6. S&P500 (3) Maandgemiddelde vanaf Januarie 1871 tot Januarie 2020

Die meesterhelling M lê langs die gelykmatige basislyn van die grafiek; dit is gedurende die tydperk voordat die tydreeks steil in waarde toegeneem het. Die meesterhelling is tussen die eerste datapunt en die 1929-hoogtepunt getrek. Omdat die helling daarvan so vlak is, is die afgeleide tendenslyne etlike veelvoude van die Fibonacci-verhouding steiler as wat die meesterhelling is. Tendenslyn K is 8 en tendenslyn B is 10 Fibonacci-transformasies steiler, wat beteken hulle is onderskeidelik 76 en 123 keer steiler as die meesterhelling.

Voorbeeld 5.5 het vier hoofkanaalpare, ABC, JKL, PQR en XYZ. Die bane KL en QR van die kanaalpare JKL en PQR word verder deur die bykomende tendenslyne U en V in twee dele verdeel. Daardeur ontstaan vier nuwe kanaalpare, JKU, KUL, PQV en QVR. Die voorbeeld bestaan dus uit agt kanaalpare waarvan kanaalpare JKL en PQR met die nuwe kanaalpare oorvleuel. Die twee eerste tendenslyne A en X van die kanaalpare ABC en XYZ is in die eerste datapunt geanker en is daarom nie op die voorbeeld sigbaar nie.

Die kanaalverhoudings van die vier hoofkanaalpare is: ABC 615:385, JKL 503:497, PQR 507:493 en XYZ 622:378, en van die nuwe oorvleuelende kanaalpare wat geskep word wanneer tendenslyne U en V bygereken word, is dit: JKU 665:335, KUL 497:503 en PQV 613:387 en QVR 615:385. 

Al agt kanaalpare het bekende kanaalverhoudings, maar dié van kanaalpaar JKU, wat met die bekende 1/3:2/3-verhouding ooreenstem, word nie vir die doel van hierdie studie as ’n sukses bygereken nie. Drie van die sewe kanaalpare wat aan die voorwaardes vir die toets voldoen, stem met die 500:500-verhouding ooreen en die ander vier kanaalverhoudings met die 382:618-Fibonacci-verhouding.

Tendenslyn C is in die tydelike algehele hoogtepunt van September 2018 geanker, terwyl tendenslyn P in die tydelike hoogtepunt van Desember 2019 geanker is. Tendenslyn Z se ankerpunt is die Januarie 2020- algehele hoogtepunt. Tendenslyn K wat in die hoogtepunt van 1929 geanker is, sny binne 0,013% onderkant die Desember 2019- tydelike algehele hoogtepunt verby om dit ’n raakpunt aan daardie hoogtepunt te maak.

Voorbeeld 5.7. Dow Jones-indeks se daaglikse waardes 14 Julie 1896 tot 14 Februarie 2020

Die Dow Jones-indeks se tydreeks strek oor ’n termyn langer as 120 jaar vanaf Julie 1896 tot 28 Februarie 2020. Die aantal datapunte is 33 568. ’n Daaglikse tydreeks is moeilik om oor die korter termyn te ontleed, omdat daar soveel verskillende en kortstondige keerpunte wat as ankerpunte gebruik kan word naby aan mekaar geleë is. Hierdie indeks het op 12 Februarie 2020 teen 29 9551,42 punte die mees onlangse algehele hoogtepunt bereik. Die meesterhelling is tussen die eerste datapunt en die skerp laagtepunt in Maart 2009 getrek. 

Drie van die vier kanaalpare in Voorbeeld 5.7 se eerste tendenslyne is met ’n negatiewe helling in die eerste datapunt geleë en is dus nie op die voorbeeld sigbaar nie. Dit is die drie tendenslyne J, P en X van kanaalpare JKL, PQR en XYZ. Die laaste tendenslyne van hierdie drie kanaalpare, naamlik L, R en Z, is almal in die Januarie 2020-hoogtepunt geanker. Hulle kanaalverhoudings word daarom net deur die drie kanaalpare se verskillende hellings wat van die meesterhelling M afgelei is en die ankerpunt wat vir van die kanaalpare se middelste tendenslyn gebruik is, bepaal.

Twee van die drie kanaalpare se middelste tendenslyne is in die hoogtepunte van Oktober 1987 en Oktober 2007 geanker. Tendenslyn Y van kanaalpaar XYZ soos hier langsaan gewys word, is in ’n sentrale punt van die Maart 2009- gevurkte laagtepunt geanker. Indien die lyn na die algehele laagtepunt verskuif word, verander kanaalpaar XYZ se verhouding van 497:503 na 510:490 net skrams meer as die limiet om ook as ’n bekende waarde gereken te word. Sentrale punte van gevurkte patrone is egter wel aanvaarbaar as ankerpunte, met die gevolg dat die kanaalpaar XYZ vir die doel van die toets aanvaar word.

Voorbeeld 5.7. Dow Jones-indeks daaglikse waardes vanaf 14 Julie 1896 tot 19 Maart 2020 

Die tendenslyn A van die vierde kanaalpaar ABC is met die laaste tendenslyne van die ander drie kanaalpare in die algehele hoogtepunt geanker. Tendenslyn C is as ’n raaklyn aan die prysgrafiek by ’n keerpunt in die skuins gedeelte van die grafiek kort ná die hoogtepunt in 1987 getrek. Later beweeg dit binne 0,08% verby die laagtepunt op 9 Maart 2009.

Die kanaalverhoudings van die vier kanaalpare is: ABC 614:386, JKL 504:496, PQR 695:305 en XYZ 497:503.

Kanaalpaar ABC, wat feitlik die hele prysgrafiek omsluit, se kanaalverhouding stem goed met die Fibonacci-verhouding ooreen. Die hellings van die twee kanaalpare JKL en XYZ verskil met twee Fibonacci-transformasies van mekaar. Dit is die verskil wat nodig is sodat tendenslyne K en Y, wat wyd van mekaar geleë is, die twee kanale JL en PR wat tussen dieselfde raakpunte aan die prysgrafiek geleë is, nagenoeg halveer.

Met die bykomende tendenslyn W in die 1987-hoogtepunt geplaas, is kanaalpaar XWY se kanaalverhouding 700:300. Die soortgelyke kanaalpaar YVZ, waarvan tendenslyn V by die eerste van twee laagtepunte tydens die 2009–2008-stygmark geanker is, het ’n kanaalverhouding van 401:599. Die verhoudings van hierdie nuwe kanaalpare bevestig dat die plasing van tendenslyn Y korrek gedoen is.

 

6. Ondersoek na voorkeurhellings se gevoeligheid vir ’n verandering in die helling 

Die mate of omvang van fynstruktuur in die verskynsel van voorkeurhellings is nie bekend nie. Daarvoor is dit nodig om te kan bepaal wanneer daar nie meer duidelik tussen twee voorkeurhellings wat al nader na mekaar op die prysgrafiek beweeg word, onderskei kan word nie. In beginsel verskil twee hellings van mekaar wanneer hulle nie presies dieselfde waarde het nie. Omdat ’n tydreeks uit diskrete waardes bestaan, verander die berekende hellings egter nie kontinu nie. Daarom sal die fynstruktuur in die praktyk kunsmatig bepaal word wanneer daar op die prysgrafiek van die tydreeks wat ondersoek word, nie meer grafies tussen twee nabygeleë voorkeurhellings onderskei kan word nie. Die aantal datapunte in die tydreeks sal daarom ook ’n faktor wees, want dit sal ’n boperk stel vir die mate van die spreiding tussen twee nabygeleë voorkeurhellings. 

Tydens die skep van Voorbeeld 5.6 is gevind dat ’n tendenslyn wat in die 1929-hoogtepunt met die korrekte afgeleide helling geanker is, maar toe nie daar gebruik is nie, binne 0,13% van die 1987-hoogtepunt verby beweeg. Die afgeleide tendenslyn se helling verskil dus min genoeg van die meesterhelling in Voorbeeld 5.2. om die 1987-hoogtepunt as ’n raakpunt aan die grafiek te aanvaar. Verdere ondersoek het bevind dat ’n afgeleide tendenslyn van die meesterhelling in Voorbeeld 5.4 wat in die hoogtepunt van 1929 geanker is, binne 0,07% van die 1987-hoogtepunt verby beweeg. Met die afgeleide tendenslyne van die ander twee meesterhellings wat goed met die derde meesterhelling ooreenstem, is die vraag of drie meesterhellings in Voorbeelde 5.2, 5.4 en 5.6 lede van dieselfde familie voorkeurhellings mag wees en andersins of daar wel op ’n manier tussen hulle onderskei kan word.

Voorbeeld 6.1. Ondersoek van die meesterhellings in Voorbeelde 5.2, 5.4 en 5.6

Dit is nie bekend wat die dimensies van enige moontlike fynstruktuur in die verskynsel van voorkeurhellings mag wees nie. Hierdie aspek daarvan kan wel op twee maniere ondersoek word: eerstens deur te toets of die kanaalverhoudings van soortgelyke kanaalpare van twee nabygeleë hellings van mekaar verskil, of tweedens deur te toets of afgeleide tendenslyne van die twee hellings twee duidelike keerpunte op die prysgrafiek ewe goed pas.

Die doel van Voorbeeld 6.1 is om uitspraak te lewer oor die mate waartoe hierdie twee maniere van toets in staat is om tussen meesterhellings wat naby aan mekaar geleë is, te onderskei. Eerstens word die kanaalverhoudings van drie soortgelyke kanaalpare met hellings wat van die verskillende meesterhellings in Voorbeelde 5.2 en 5.6 afgelei is, vergelyk. Tweedens word toepaslike steiler afgeleide tendenslyne van die meesterhellings in Voorbeelde 5.2 en 5.6 met die meesterhelling wat in Voorbeeld 5.4 gebruik is, vergelyk.

Al drie meesterhellings verskyn in Voorbeeld 6.1 en is as M6-2, M6-4 en M6-6 gemerk. Die bondels tendenslyne wat as A, B en C gemerk is, bevat afgeleide tendenslyne van die drie meesterhellings. Bondel A is in die laaste datapunt van die tydreeks geanker; bondel B in die regstelling tydens die 2009–2018-stygmark, en bondel C is as raaklyne onder aan die prysgrafiek getrek. In bondel A is twee van die afgeleide tendenslyne gemerk.

Verder onderskei die kleure tussen die drie meesterhellings en hulle afgeleide tendenslyne. Twee ander bondels wat elkeen afgeleide tendenslyne van die drie meesterhellings bevat, is as Y en Z gemerk. Hulle is in die 1987-hoogtepunt en in die laaste datapunt in Januarie 2020 onderskeidelik geanker. ’n Derde soortgelyke bondel X om sodoende kanaalpaar XYZ van die bondels te vorm, is in die eerste datapunt geanker en is nie op die voorbeeld sigbaar nie.

Voorbeeld 6.1. Vergelyking van die drie S&P500-meesterhellings

Die verskillende kanaalverhoudings van die afgeleide tendenslyne in die bondels kanaalpare word in Tabel 6.1 aangetoon.

Tabel 6.1. Verskillende meesterhellings se afgeleide kanaalverhoudings 

Kanaalpaarbondel

M6-2

M6-4

M6-6

ABC

496:504

497:503

495:505

XYZ

593:407

594:406

591:409

 

Die twee stelle kanaalverhoudings verskil met een syfer in die derde desimaal, behalwe kanaalpaar XYZ se kanaalverhouding van meesterhelling M6-6 waar die verskil twee syfers in die derde desimaal is. Meesterhelling M6-2 het 8 Fibonacci-transformasies nodig om langs die M6-4-meesterhelling te pas wat dit 47 keer steiler maak en wat enige rondingsfoute in die twee ankerpunte van die meesterhelling se betreklik klein waardes sal vergroot, maar wat nie merkbaar gebeur het nie.

Volgens die duimreël word die verhoudings as dieselfde kanaalverhouding beskou. Daaruit volg dit dat indien die drie meesterhellings lede van verskillende families sou wees, dit nie met behulp van kanaalverhoudings geredelik onderskei kan word nie. 

Die meesterhelling van Voorbeeld 5.4 is in die laaste datapunt van Januarie 2020 geanker. Die derde steiler afgeleide tendenslyn van die meesterhelling in Voorbeeld 5.2 wat in die eerste datapunt geanker is, beweeg 0,77% onderkant die laaste datapunt verby. Dit is meer as die gebruiklike limiet van 0,50% om dit as ’n raakpunt aan die prysgrafiek te aanvaar. Die agtste steiler afgeleide tendenslyn van die meesterhelling in Voorbeeld 5.6 beweeg 2,40% onderkant die laaste datapunt verby, wat ook te veel is om dit ’n raakpunt aan die tendenslyn te maak.

In Voorbeeld 5.6 beweeg tendenslyn K wat in die 1929-hoogtepunt geanker is, binne 0,02% onderkant die tydelike hoogtepunt in Desember 2019 verby. Soortgelyke tendenslyne wat van meesterhellings M6-2 en M6-4 afgelei is, beweeg onderskeidelik 1,21% en 1,97% aan die bokant van die Desember 2019-hoogtepunt verby. Waar die afgeleide tendenslyn K met ankerpunt in die 1929-hoogtepunt die Desember 2019-hoogtepunt raak, doen nie een van die ander twee meesterhellings se afgeleide tendenslyne dieselfde nie. Hiervolgens is die drie meesterhellings nie lede van dieselfde familie nie. 

Voorbeeld 6.1 wys dat afgeleide tendenslyne wel tussen die drie meesterhellings as lede van verskillende tendenslynfamilies onderskei. Die kanaalverhoudings wys ook verskille tussen die drie meesterhellings, maar nie voldoende om die gebruiklike duimreël van die verskil in die derde desimaal te betrek nie. Tog dui beide benaderings daarop dat daar ’n fynstruktuur in die verskynsel bestaan.

Die gebruik van tendenslyne het die nadeel dat die uitslag vir die duur van die tydreeks se prysgrafiek gevoelig is. Die uitslag sal verander wanneer die tydsduur van die prysgrafiek verkort of verleng word sodat die toets nuwe pare punte wat nader of verder van mekaar is vir die vergelyking moet gebruik. In teenstelling hiermee sal die kanaalverhoudings van twee soortgelyke kanaalpare wat vergelyk word, nie deur die grafiek se tydsduur beïnvloed word nie. Sou dan ten gunste van kanaalverhoudings om tussen hellings se families te onderskei besluit word, sal die gebruiklike limiet van minder as 10 plekke wat in die derde desimaal van twee verhoudings mag verskil, hersien moet word. So ’n besluit sal die diskrete aard van ’n tydreeks se waardes in ag moet neem, want dit stel ’n onderperk aan hoeveel twee hellings van mekaar kan verskil en nog lede van verskillende families kan wees. 

Meer insig in die eienskappe van die verskynsel is nodig om te kan motiveer of ’n absolute limiet bestaan wat onder alle omstandighede sal geld. Dit is egter meer waarskynlik dat daar bruikbare limiete vir verskillende omstandighede sal wees.

Voorbeeld 6.2. S&P500-meesterhelling tussen eerste datapunt en 2007-hoogtepunt

Voorbeeld 6.2. S&P500 (4) Maandgemiddelde vanaf Januarie 1871 tot Januarie 2020

Soos bespreek, het die meesterhellings in die eerste drie voorbeelde van die S&P500-tydreeks te min van mekaar verskil om uitspraak te lewer oor die vraag of gebruik van verskillende meesterhellings ook kanaalpare met bekende kanaalverhoudings sal skep. In Voorbeeld 6.2 word ’n meesterhelling wat heelwat van die ander drie verskil, gebruik. Nog ’n verandering van die vorige drie S&P500-voorbeelde is dat die Januarie 2018-hoogtepunt nou in die plek van die Januarie 2020-hoogtepunt as ankerpunt van die kanaalpare se derde tendenslyne gebruik is. Voorbeeld 6.2 verskil dus in twee opsigte van Voorbeelde 5.2, 5.4 en 5.6 om die effek van die ander meesterhelling te toets. 

Die meesterhelling is tussen die eerste datapunt en die 2007-hoogtepunt getrek. Die drie tendenslyne X, Y en Z is ewewydig aan die meesterhelling. Tendenslyne X en Z is raaklyne aan die prysgrafiek en lyn Y is in ’n tydelike algehele hoogtepunt tydens die steil stygmark tussen 2009 en 2018 geanker. Die kanaalpaar JKL en die twee kanaalstelle ABCDEFGH en PQRS se eerste tendenslyne is in die eerste datapunt geleë en is nie sigbaar nie.

Tendenslyne L en S van kanaalpaar JKL en kanaalstel PQRS asook lyne G van kanaalstel ABCDEFGH is soos in Voorbeeld 5.2 in die Januarie 2018 hoogtepunt geanker. Van die 19 tendenslyne in die voorbeeld is net twee in moontlik aanvegbare ankerpunte gesetel. Die tendenslyn F se ankerpunt is in ’n klein en kortstondige huiwering in die steil stygmark onderweg na die tydelike hoogtepunt in Januarie 2018 waar die prys ’n totsiensgroet teen lyn F uitgevoer het. Tendenslyn H van die groot kanaalstel is in die Desember 2019- tydelike algehele hoogtepunt kort voor die Januarie 2020- algehele hoogtepunt geanker. 

Die kanaalverhoudings van die kanaalpare in Voorbeeld 6.2 is: JKL 600:400, XYM 696:304, YMZ 298:704, PQR 335:665 en QRS 497:503, ABC 383:617, BCD 505:495, CDE 508:492, DEF 501:499, EFG 496:504 en FGH 621:317.

Van die 11 kanaalpare wat almal bekende verhoudings het, kom drie nie as suksesvol vir die toets in aanmerking nie. Hulle is XYM, YMZ en PQR. Die ander agt stem met die 500:500-verhouding (5), die Fibonacci-verhouding (2) en 400:600-verhouding ooreen. Kanaalstel XYMZ se twee kanaalpare het soortgelyke verhoudings in omgekeerde vorm met die gevolg dat die hele kanaalstel met die tendenslyne X en Z as raaklyne aan die prysgrafiek simmetries is. Dit plaas besondere belang op die ankerpunte van die twee binnelyne, Y en M.

Van die ses kanaalpare in die kanaalstel ABCDEFGH stem vier kanaalpare met die 500:500-verhouding ooreen en die eerste en laaste wat die Fibonacci-verhouding deel. Die vier kanaalpare met 500:500-kanaalverhoudings is naasliggend met die gevolg dat kanaalstel BCDEFG simmetries is.

Die twee pare met die Fibonacci-verhouding wat weerskante van die simmetriese kanaalstel geleë is se verhoudings is omgekeerd. Dit bring mee dat die volledige kanaalstel wat uit agt tendenslyne bestaan, simmetries is. Dit is die eerste keer dat sodanig uitgebreide simmetrie gesien is en die besondere verband tussen die agt stelle koördinate van die ankerpunte dien om beide tendenslyne F en H as korrek geplaas te bevestig.

Omdat daar simmetrie in die ses kanaalpare van kanaalstel ABCDEFGH bestaan, mag daar ook groter kanaalpare in die kanaalstel wees wat aanvaarbare verhoudings sal vertoon. Vier sodanige kanaalpare is die volgende: ACD 623:377, EFH 387:613, ABD 238:762, EGH 768:232. 

Kanaalpare ACD en EFH is weerskante van kanaal DE geleë en albei verskil net vyf plekke van die Fibonacci-verhouding in omgekeerde verhouding. Dit beteken dat die kanaalstel ACDEFH ook simmetries is. Dieselfde geld vir kanaalstel ABDEGH, maar in hierdie geval stem hulle kanaalverhouding met ’n seldsame verhouding ooreen, naamlik met 236:764 waar 0,236 die derde mag van die Fibonacci-getal 0,618034 is. 

Dit volg uit Voorbeeld 6.2 dat die bekende kanaalverhoudings van Voorbeelde 6.2, 6.4 en 6.6 nie deur die ooreenkoms in hulle meesterhellings bepaal word nie, maar dat ’n ander meesterhelling wat geloofwaardig gedefinieer is ook bekende kanaalverhoudings lewer.

 

7. Bespreking van die voorbeelde

Die voorbeelde is ontwerp om slegs een aspek van die verskynsel van voorkeurhellings te betrek. Ondersoek oor ’n lang tyd het geleer dat met die gebruik van ’n korrek-geplaaste meesterhelling om tendenslyne wat net aan een familie behoort in ’n ontleding te trek, die volgende geld: Dit is moontlik om vir die korrekte afgeleide helling daarvan drie keerpunte op die prysgrafiek van ’n finansiële tydreeks te vind, sodat ’n kanaalpaar wat daarin geanker is se kanaalverhouding met een van die kort lys van bekende waardes sal ooreenstem.

Die gestruktureerde metodiek wat vir die skep van die voorbeelde gevolg is, beskryf ’n soektog na sodanige kanaalpare. Deur slegs aanvaarbare keerpunte wat die eerste datapunt insluit as ankerpunte vir die meesterhelling en die afgeleide tendenslyne te gebruik, word die soektog begrens en dan nog verder beperk deur slegs die kanaalpare met een van die drie van die bekende kanaalverhoudings wat meeste gesien word, in ag te neem.

Die voorbeelde se resultate word in Tabel 7.1 opgesom. Die voorbeelde in rooi druk verwys na die vier voorbeelde van die S&P500-tydreeks. Kolom 1 verwys na die voorbeelde en die aantal kanaalpare wat daarin voorkom. Die verspreiding van die kanaalpare se verhoudings word in die ander kolomme vertoon.

Tabel 7.1. Verdeling van kanaalverhoudings in die voorbeelde

Voorbeeld

500:500

382:618

400:600

300:700

Ander

5.1 (3)

X

X

X

 

 

5.2 (4)

XX

X

X

 

 

5.3 (4)

X

X

XX

 

 

5.4 (8)

XX

XXX

XX

 

290:710

5.5 (4)

XX

X

X

 

 

5.6 (8)

XXX

XXXX

 

 

665:335

5.7 (6)

XX

X

XX

X

 

6.1 (2)

X

X

 

 

 

6.2 (15)

XXXXX

XXXX

X

XX

665:335
236:764 2x

Totaal 54

19

17

10

3

5

 

Die verdeling van die kanaalverhoudings in die voorbeelde word in Tabel 7.1 voorsien. Van die 54 kanaalpare se kanaalverhoudings stem die agt (15%) in die laaste twee kolomme nie met die voorgeskrewe verhoudings ooreen nie. Vier van hierdie agt verhoudings, waarvan een rakelings té veel verskil, stem met die 300:700-verhouding wat nie vir die toets aanvaar word nie ooreen. Twee stem ooreen met die 335:665-verhouding (1/3:2/3) wat ook in baie tydreekse gesien word. Nog twee se verhouding stem met die derde mag, 0,236, van die 0,618034-Fibonacci-verhouding ooreen.

Die aantal van die 500:500-, 382:618- en 400:600- bekende verhoudings in die voorbeelde stem goed ooreen met wat in ontledings van voorkeurhellings van allerlei tydreekse gesien word. Tydens ontleding is daar ’n bewustelike voorkeur vir kanale wat naastenby eweredig verdeel is, eerder as kanaalpare wat ekstreme verhoudings sal hê. Dit is nog nie bekend of hierdie verdeling ook die werklike verspreiding in tydreekse weerspieël nie.

Daar is 46 (85%) kanaalpare waarvan die kanaalverhoudings met die drie waardes wat vir die toets aanvaarbaar is, ooreenstem om as suksesse van die soektog te kwalifiseer. Dit is voldoende vir ’n positiewe antwoord op die eerste vraag of die prosedure wat vir die skep van die voorbeelde gevolg is, suksesvol sal wees om voorbeelde van die kanaalstruktuur van die verskynsel te vind. Hiermee word ook die teenwoordigheid van die eienskappe van die verskynsel wat in vele ontledings waargeneem en in die prosedure ingebou is, in minstens vyf verskillende tydreekse bevestig.

Die vraag of die keuse van meesterhelling die resultate kan beïnvloed, word nie goed deur die eerste drie voorbeelde van die S&P500-tydreeks beantwoord nie. Daarvoor verskil hulle meesterhellings te min van mekaar. Dit het behoefte aan ’n verdere voorbeeld geskep en in Voorbeeld 6.2 is die resultaat duidelik dat die keuse van ’n ander meesterhelling steeds resultate wat aan die toets voldoen, sal lewer. 

Die meesterhellings in die S&P500-tydreeks se eerste drie voorbeelde skep 20 verskillende kanaalpare met bekende verhoudings. Soos uit Voorbeeld 6.1 volg, kon enige van die drie Voorbeelde 5.2, 5.4 en 5.6 met gemak met enige een van die drie meesterhellings in daardie voorbeelde geskep word. Dat die aannames wat die algoritme onderlê, die aard van die verskynsel korrek beskryf, word verder bevestig deur die aantal verskillende kanaalpare met een van die drie vooropgestelde kanaalverhoudings wat met gebruik van een meesterhelling suksesvol afgelei kan word.

Tabel 7.2. Verdeling van die gebruik van prominente keerpunte

Ankerpunte

5.2

5.4

5.6

6.2

N – 69

11

23

15

20

1/1871 (16)

 

7

5

4

9/1929 (9)

3

2

2

2

8/1987 (9)

3

2

2

2

8/2000 (2)

1

 

1

 

2/2003 (1)

 

 

 

1

10/2007 (5)

 

2

1

2

3/2009 (3)

 

1

1

1

1/2018 (6)

3

 

 

3

12/2019 (2)

 

 

1

1

1/2020 (8)

 

6

1

1

Totaal 61

10

20

14

17

 

Die gebruik van verskillende ankerpunte vir die meesterhellings en afgeleide tendenslyne in die vier S&P500-voorbeelde word in Tabel 7.2 opgesom. Vir elkeen van die vier voorbeelde word die totale aantal ankerpunte wat gebruik is, in rooi druk in die tweede ry van die tabel aangetoon. Die eerste datapunt en ander prominente ankerpunte wat in die voorbeeld gebruik is, word in die eerste kolom aangedui tesame met die aantal kere wat dit as ankerpunt gedien het. Die gebruik in die verskillende voorbeelde van die 10 ankerpunte word in die rye aangedui. Die onderste ry dui die totale gebruik van die 10 verskillende keerpunte vir elke voorbeeld aan.

In die geval van die gevurkte laagtepunt in 2003 en gevurkte hoogtepunt in 2007 word al drie keerpunte van hierdie patrone in ag geneem. Nie al die belangrike keerpunte is in elke voorbeeld gebruik nie, maar net agt van die totale aantal ankerpunte was glad nie in een van hierdie 10 belangrike keerpunte nie. Dit is opmerklik volgens Tabel 7.2 dat die drie S&P500-voorbeelde met nagenoeg dieselfde meesterhelling nie van dieselfde kombinasies ankerpunte vir kanaalpare gebruik gemaak het nie. Vergelyking van die 18 kanaalpare in daardie voorbeelde, wat met die voorgeskrewe verhoudings ooreenstem, wys dat hulle almal verskillend is. Hierdie verskeidenheid dien ook as stawing van die aannames waarop die algoritme gegrond is.

In Voorbeeld 5.7 dien die laagtepunt van die Dow Jones-nywerheidsgemiddelde op 9 Maart 2009 as een van die meesterhelling se twee ankerpunte. Dit speel dus ’n besondere rol in die ontwikkeling van die hele ontleding. Pryse in finansiële markte ontwikkel normaalweg op ordelike wyse as die tussenspel van aanvraag en aanbod in die mark soos weerspieël in die besluite van al die markspelers. Dit bring die ontluiking van ’n komplekse selfaanpasbare stelsel as ’n moontlike verklaring na vore. Die laagtepunt op Wallstraat op 9 Maart was nie die gevolg van normale markbesluite nie. Die VSA se Federale Reserwe, hulle sentrale bank, het tot die finansiële krisis toegetree met die aankondiging dat ’n reusebedrag beskikbaar gestel is om die finansiële stelsel te herkapitaliseer en so die krisis te ontlont.

Aangesien die kanaalpare in die drie S&P500 voorbeelde asook in Voorbeelde 7.1 en 7.2 na weerskante van die Maart 2009 laagtepunt strek en nogtans bekende kanaalverhoudings vertoon, het die feit dat daardie laagtepunt die gevolg van ’n wilsbesluit deur die Federale Reserwe is op die oog af nie die inherente patroonmatigheid van die verskynsel versteur nie. Beleggers se besluitneming moes daardie gebeurtenis en die effek op Wallstraat in ag geneem en gemaklik verwerk het om die tydreeks se koördinate gladweg by dit wat Maart 2009 voorafgegaan het, aaneen te skakel. Hieruit, en ook uit die voorbeelde van verskillende tydreekse, blyk dit dat die meganisme wat vir die waargenome struktuur verantwoordelik is, robuust, aanpasbaar en bestendig op langer termyn is.

 

8. Gevolgtrekkings

Dit is uit Tabel 7.1 duidelik dat die algoritme wat met die skep van die voorbeelde gevolg is, suksesvol was om kanaalpare met een van drie bekende kanaalverhoudings te skep. Daarom kan aanvaar word die aannames wat vir die ontwerp daarvan gebruik is, bied ’n korrekte beskrywing van eienskappe van die verskynsel wat oor ’n lang tyd in tydreekse van die pryse in finansiële markte waargeneem is. Die sukses van die algoritme in die voorbeelde van die vyf tydreekse wat ondersoek is, bevestig dat die verskynsel in al vyf tydreekse teenwoordig is. 

Daar is geen verwysing na enige struktuur van naastenby hierdie aard in die literatuur wat aan my beskikbaar is nie. Dit weerspieël die aanvaarde mening in finansiëlemarkteorie soos Burton Malkiel in sy artikel (Malkiel 2003), waarin kritiek op die Doeltreffendemark-hipotese weerlê word, bespreek. Dit kom daarop neer dat die geskiedenis van ’n prys nie gebruik kan word om die verdere verloop daarvan vooruit te loop nie. Aangesien die bestaan van enige struktuur in pryse van finansiële markte voorspelbaarheid impliseer, is dit te verstane dat die moontlike bestaan van enige struktuur in markpryse nie meer veel navorsing ontlok het nie.

Dit is bekend dat die Instituut vir Kompleksiteit in Santa Fe heelwat navorsing oor ontluiking in pryse van finansiële markte gedoen het, maar daar is nie verslae van sukses wat behaal is, beskikbaar nie. Dit mag wees dat hulle soektog uitsluitlik na ’n lineêre patroonmatigheid gedoen is. Die verskynsel wat hier bespreek is, is egter tweedimensioneel van aard.

Die fynstruktuur van die verskynsel wat op grond van Voorbeeld 6.1 as moontlikheid gestel word, dien om te veronderstel dat prysveranderings altyd by ’n voorkeurhelling sal plaasvind. Die verskillende voorkeurhellings van ’n tydreeks sal dan ’n fyn netwerk vorm met die gevolg dat die beweging van die prys met verloop van tyd dan met Brown se beweging van ’n molekule in ’n gas vergelyk kan word (Encyclopaedia Britannica 2018).

Daar kan op grond van die voorbeelde min tot geen twyfel wees nie dat daardie tydreekse wel struktuur vertoon. Die aard van die struktuur word aan die hand van net enkele aspekte uitgelig en daar is nog veel om na te vors. Die bestaan van akkurate struktuur in markpryse wat oor vele dekades strek en wat moontlik die ontluiking in komplekse selfaanpasbare stelsels verteenwoordig, skep nuwe vrae oor die werking van die brein en die aard van menslike besluitneming wat wyd strek.

’n Eenvoudige program en data waarmee die voorbeelde herskep kan word, sal by hierdie skakel beskikbaar gestel word. Die inhoud van die skakel kan vir gebruik na die rekenaar afgelaai word. Die tekslêer 0-Read-me.docx bied aanwysings vir hoe om voort te gaan.

 

Erkenning

My dank aan me. G. van Reenen vir die taalversorging.

 

Bibliografie 

Beukes, G.J. 2011. Preferred gradients: Evidence of emergent symmetry in financial markets. Ongepubliseerde MCom-verhandeling, Universiteit van Johannesburg.

Encyclopaedia Britannica. 2018. Brownian motion. https://www.britannica.com/science/Brownian-motion (4 Augustus 2018 geraadpleeg).

Edwards, R.D., J. Magee en W.H.C. Bassetti. 2007. Technical analysis of stock trends. 9de uitgawe. Cleveland: Taylor and Francis.

Elliott R.N. 1938. The wave principle. Faksimilee herdruk. https://www.alanpuritrading.com/shop/stock-market-psychology/wave-principle-1938-r-n-elliott (17 Januarie 2016 geraadpleeg).

FRED. 2019. Switserse frank-VSA dollarkoers. https://fred.stlouisfed.org/series/EXSZUS (17 Desember 2019 geraadpleeg).

FRED. 2020a. D-mark-VSA dollarkoers. https://fred.stlouisfed.org/series/EXgeUS (22 Maart 2020 geraadpleeg).

FRED. 2020b. Euro-VSA Dollarkoers. https://fred.stlouisfed.org/series/EXUSEU (22 Maart 2020 geraadpleeg).

FRED. 2020c. Maandgemiddelde VSA-dollar/SA-rand-koers. https://fred.stlouisfed.org/series/EXSFUS (19 Februarie 2020 geraadpleeg).

Gann, W.D. 1942. How to make profits trading in commodities: A study of the commodity market. 2008-herdruk. Pomeroy, WA: Lambert Gann Publishing. 

Investopedia. s.j. Introduction to Elliott Wave Theory. https://www.investopedia.com/articles/technical/111401.asp (6 Julie 2018 geraadpleeg). 

Joubert, D.J. 1993. Evidence of symmetry in price behaviour. Investment Analysts Journal, 22(37):47–51.

—. 1996. An underlying symmetry on price charts. Investment Analysts Journal, 25(43):11–20.

Malkiel, B.G. 2003. The efficient market hypothesis and its critics. Journal of Economic Perspectives, 17(1):59–82.

Marisch, G. 1996. The W.D. Gann method of trading. A simplified, clear approach. Brightwaters, NY: Windsor Books. 

MetaTrader 5. 2020. A powerful platform for forex and exchange markets. https://www.metatrader5.com/en (21 Augustus 2018 geraadpleeg).

Murphy, J.J. 1999. Technical analysis of the financial markets. Hersiene uitgawe. New York: New York Institute of Finance.

Pines, D. 2014. Emergence: A unifying theme for 21st century science. Santa Fe Institute of Complexity. https://medium.com/sfi-30-foundations-frontiers/emergence-a-unifying-theme-for-21st-century-science-4324ac0f951e (3 Mei 2016 geraadpleeg).

Pring, M.J. 2002. Technical analysis explained. Vierde uitgawe. New York, NY: McGraw-Hill.

Quandl. 2019. Dow Jones-nywerheidsindeks. https://www.quandl.com/data/BCB/7809-Dow-Jones-NYSE-index (26 September 2019 geraadpleeg en daarna met die hand bygewerk).

Quandl. 2020a. S&P500 maandelikse gemiddelde. https://www.quandl.com/data/MULTPL/SP500_REAL_PRICE_MONTH-S-P-500-Real-Price-by-Month (16 Februarie 2020 geraadpleeg).

Quandl. 2020b. Maandgemiddelde: goudprys. https://www.quandl.com/data/LBMA/GOLD-Gold-Price-London-Fixing (9 Mei 2020 geraadpleeg).

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Waarnemings van langdurige struktuur in tydreekse van finansiële markte appeared first on LitNet.

Wat hou dit in dat die Bybel ’n kanon is? 

$
0
0

Wat hou dit in dat die Bybel ’n kanon is? 

Pieter M. Venter, Universiteit van Pretoria

LitNet Akademies Jaargang 17(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Die begrip kanon word in die Christendom gebruik om die gesag van die Bybel aan te dui. Hierdie artikel betoog dat hierdie begrip verruim moet word. Die verruiming word gemotiveer deur na verskillende verwikkelings te verwys. Die veruniversering van die Christelike kerk bring aan die lig dat daar verskille oor die omvang en die volgorde van die Bybelse kanon onder geloofsgemeenskappe bestaan. Die begrip kanon geniet tans wêreldwyd aandag op verskillende akademiese kongresse. Die ontdekkings van antieke manuskripte by Nag Hammadi en Qumran in die jare 1946–1947 toon dat die vorming van die kanon ’n veelfasige en veelfasettige reeks gebeure behels het waaraan verskillende opeenvolgende groepe oor eeue heen deel gehad het. Die bestudering van die kanonteks vereis die wetenskap van tekskritiek om ’n verantwoordbare en wetenskaplik-gefundeerde grondteks beskikbaar te stel. Die intensiewe navorsing na die Bybelse grondtekste word oor die wêreld heen deur skole en institute onderneem. Hierdie nagevorste grondtekste vorm die basis van alle hedendaagse vertalings van die Bybel. Hierdie artikel fokus op die Ou Testament en kom tot die gevolgtrekking dat daar nie slegs met die Reformatoriese opvatting van die kanon volstaan kan word nie. Al die ander verwikkelings moet ook in ag geneem word. 

Trefwoorde: Bybel; gesag; kanon; oorlewering; tekskritiek

 

Abstract

What does it mean that the Bible is a canon?

When dealing with ethical problems the Christian church bases its view on the Bible as its authoritative source. The authority of the Bible is indicated by the notion canon. Meaning criterion or rule, the term indicates that the Bible is the highest authority of teaching for the church. This idea is influenced by different Protestant confessions that indicate a list of biblical books known as “the Word of God”. However, there exist several factors that show that the scope of a canon should be widened to include the role humans have played historically in the compilation and use of the Bible. 

The first factor to keep in mind is that the different sections of the Christian church differ with regard to the number and ordering of the biblical books. In Protestant circles the canon consists of 66 books: 39 in the Old Testament and 27 in the New Testament. While the Roman Catholic Church collection fully corresponds with the Protestants’ New Testament selection, its Old Testament includes an additional six books arranged in a slightly different order from that of the Protestant version. It also contains some additions to two of the Protestant books. The Eastern Orthodox Churches have even more books in its collection. One has, therefore, to specify to which specific canon one is referring when using the term canon for the Bible.

A further issue is the worldwide interest in the canon that is found in the agendas of international academic congresses. At the meetings of the Society of Biblical Literature as well as different academic congresses held all over the world during the last decade, different aspects of the notion of the canon were discussed in depth. Discussion on the canon can no longer be conducted in isolation.

Canon indicates a norm as well as a list. The demarcated list of books serves, at the same time, as a criterion. These two aspects of norm and list are related, but are not to be confused. The eventual final list of the biblical canon used in a specific church represents the outcome of a very long history in which norms have played a role all along in the forming process of an eventual final list.

A revolutionary role is played by the discovery of the ancient scrolls at Nag Hammadi and the Dead Sea during 1946–1947. The discovery of material from the last pre-Christian era and the beginning of the Christian era opened up totally new vistas for the study of a biblical canon. It became clear that the books of the Bible are a mere selection from a very wide range of literature of that time. Much of the material found in the caves at Qumran are nearly identical to the books found in the present Bible. However, it is clear that although a consciousness about the canon existed at that time, the compilation of the Old Testament was still in process and had not nearly been finalised. These and other materials from surrounding caves broadened our insight into the social and historical circumstances of the time.

History shows that a new trend of conserving and copying material took place after the destruction of the Temple in Jerusalem in AD 70 and after the catastrophic results of the Bar Kochba upheaval between AD 132–6. The Jews had to move out of Jerusalem. They settled in different places in Israel where, among other things, they dedicated their energy to copying and transmitting the holy texts. A group called the Masoretes dedicated themselves to preserving and copying Hebrew scriptures. The result of their work is the so-called Masoretic text. By the time the Middle Ages arrived a form of this text had become the standard text for Judaism.

When the printing press came into use in the 15th century a choice had to be made as to which form of the Masoretic text was to be used to be printed. Turning away from the Greek translation of the Septuagint used in the Roman Catholic Church, the Protestants chose a version of the Old Testament that consisted of the same number of books as found in the Jewish Hebrew Bible, but now arranged according to the order of the Septuagint. 

Many copies of the Hebrew Scriptures were created over the centuries. A new science called Textual Criticism arose which studied the differences between these copies with the purpose of publishing a text-critical edition of the Old Testament. Such scientifically researched editions form the basis of all present-day translations of the Bible. 

Keeping all these factors in mind, this article therefore proposes that the notion of canon should be increased in its scope.

Keywords: authority; Bible; canon; Textual Criticism; tradition

 

1. Inleiding

Die Christelike kerk word van tyd tot tyd met verskillende etiese vraagstukke gekonfronteer. Sake uit die onlangse verlede is vraagstukke oor apartheid, of vrouelidmate hoede moet dra tydens die erediens, die toelating van vrouens tot die ampte in die kerk, en die vrae rondom homoseksualiteit en die sogenaamde LBGTQI+-vraagstuk. Die Bybel is die basisdokument in die Christelike kerk en antwoorde op hierdie vraagstukke word uit beginsel daarin gesoek.

In Protestantse kringe word daar sedert die Reformasie in die 16de eeu na die Bybel verwys as die kanon van die kerk. Die woord kanon kom van Grieks en dui ’n maatstaf, kriterium of ykmaat aan. In navolging van Martin Luther (1483–1546), Johannes Calvyn (1509–64) en Huldrich Zwingli (1484–1531) word die Bybel beskou as die kriterium, die gesagdraende norm vir die Christelike leer en lewe. Calvyn het in sy Institusie 7,1 (Beveridge 1962:300–1) Goddelike gesag aan die Bybel toegeken. Tydens verskillende konsilies in die 16de en 17de eeu is oor die inhoud en die omvang van die Bybel besluit. Die besluite het uitgeloop op die opstel van verskillende belydenisskrifte. Die Confessio Gallicana (1559) bepaal in artikel 111, die Confessio Belgica (1562) in artikel IV en die Westminster Confession (1647) in artikel II die presiese omvang en volgorde van die Bybelboeke. Artikel 4 van die Nederlandse Geloofsbelydenis brei artikel 3 (“Die Geskrewe Woord van God”) verder uit en gaan oor “Die Kanonieke Boeke van die Heilige Skrif”. Die 39 boeke van die Ou Testament en die 27 boeke van die Nuwe Testament word in die artikel gelys. 

Volgens die inligting wat in daardie tyd beskikbaar was, is dus gedurende die 16de en 17de eeu besluit oor wat die omvang, die inhoud en die volgorde van die boeke van die Bybel in die Protestantse kanon behoort te wees. Hierdie standpunte word tot vandag toe in Protestantse kringe net so gehandhaaf.

Daar het egter verskillende dinge gebeur wat dit nodig maak om te herbesin oor wat alles bedoel word met die idee dat die Bybel die kanon van die kerk is. Hierdie artikel wil daardie sake uitwys en aanvoer dat daar ’n verruiming van die begrip kanon moet kom.

 

2. Die kanon of ’n kanon?

In Protestantse kringe word na die Bybel verwys met die bepaalde lidwoord: “die Bybel”, “die Woord van God”, “die Heilige Skrifte”, “die kanon”. Soms word die frase “die onfeilbare Woord van God” gebruik. ’n Voëlvlug oor die verskillende vertakkings van die Christendom wys dat nie almal presies dieselfde bedoel met die term Bybel of die begrip kanon nie. Daar is nie eenstemmigheid tussen die Rooms-Katolieke Kerk, die Protestantisme en die Oosters-Ortodokse kerke oor die omvang, inhoud en volgorde van Bybelboeke nie. Daar is wel eenstemmigheid oor die kanonieke gesag van die Bybel wat gebruik word.

In Protestantse kringe is die Bybel ’n versameling van 66 boeke wat in ’n Ou Testament (39 boeke) en ’n Nuwe Testament (27 boeke) verdeel word. Die Ou Testament stem hier inhoudelik ooreen met die Hebreeuse TaNaK. Hierdie akroniem word in die Jodedom gebruik vir die vyf boeke van die Tora (Wet), die agt boeke van die Nebi’im (Profete) en die 11 boeke van die Ketubim (Geskrifte). Dit word in 24 boeke verdeel.

Die volgorde van die boeke in die Protestante se Ou Testament verskil egter van dié van die TaNaK. Soos later aangedui sal word, reflekteer die keuse vir ’n bepaalde volgorde ’n bepaalde siening van die kanon (Stordalen 2001:143). Christene het onder invloed van ’n bepaalde geskiedenisbeskouing die Profete heel laaste geplaas sodat dit as verwysing na die toekoms in die Nuwe Testament kon uitmond (Stordalen 2001:141). Hierdie volgorde stem ooreen met dié van die vertaling van die Ou Testament in die Griekse Septuagint. 

In die Rooms-Katolieke Bybel is daar 73 boeke. Die volgorde waarin die boeke daar staan, stem wat die Ou Testament aanbetref, nie ooreen met dié van die TaNaK nie. Dit het eerder dieselfde volgorde as dié van die Griekse Septuagint en die Latynse Vulgaat. Wat omvang betref, is daar naas dieselfde aantal Protestantse boeke nog ’n verdere sewe boeke by die Ou Testament: 1 en 2 Makkabeërs, Judit, Tobit, Barug (wat die Brief van Jer. insluit), Sirag, en die Wysheid van Salomo. By die boeke Ester en Daniël is ook ’n verdere paar hoofstukke by. In Ester is daar naas die Protestantse 1:1–10:3 nog ’n verdere 10:4–16:24. By Daniël is daar verder: die Gebed van Asarja (Dan. 3:24–90), die verhaal van Susanna (Dan. 13) en die verhaal van Bel en die Draak (Dan. 14). Hierdie addisionele materiaal staan in Rooms-Katolieke kringe bekend as die Deuterokanonieke boeke, of volgens die Protestantse oortuiging as Apokriewe (weggesteekte) boeke. Wat die Nuwe Testament aanbetref, stem dit ten opsigte van inhoud en volgorde presies ooreen met dié van die Protestantse Bybel. 

Die Oosters-Ortodokse Bybel bevat nog ’n verdere ses boeke, om by ’n versameling van 79 uit te kom: 1 Esdras, 2 Esdras, 3 Makkabeërs., 4 Makkabeërs., Psalm 151 en Die Odes. In die Siries-Ortodokse versameling staan daar nog verder 2 Barug en Psalms 152–5. In die Etiopiese Ortodokse Bybel is daar 86 boeke. By die Rooms-Katolieke en Grieks-Ortodokse Bybels is hier bygevoeg: 4 Barug, Etiopiese Henog, Jubileë, Eerste tot Derde boeke van die Etiopiese Makkabeërs en die breër Etiopiese Bybelse kanon. 

Uit hierdie oorsig is dit duidelik dat daar nie sonder meer van “die Bybel” of “die kanon” gepraat kan word nie. Elke hoofstroom van die Christendom het ’n eie weergawe van ’n grootliks gemeenskaplike versameling wat in sommige opsigte ooreenstem en weer in dié opsig van omvang van mekaar verskil. Die implikasie is dat enige uitspraak oor die gesag van die Bybel binne die konteks van ’n bepaalde vertakking van die Christendom verstaan moet word. Dit is beter om telkens die woord Bybel of kanon te kwalifiseer deur te praat van die Protestantse kanon, of die Rooms-Katolieke, of Oosters-Ortodokse Bybel-versameling. Die meeste verskille het met die Ou Testament te doen. Daar sal dus verder in hierdie artikel hoofsaaklik op die Ou Testament gefokus word.

 

3. ’n Universele vraagstuk

’n Volgende faktor in die herbesinning oor die begrip kanon het met die aandag te doen wat tans oor die hele wêreld daaraan gewy word. Toenemende veruniverseling het die wêreld al kleiner laat word en al meer ’n sogenaamde wêreldgemeenskap (“global village”) laat word. Vraagstukke oor die kanon is nie net beperk tot ’n enkele vertakking van die Christendom nie. Dit kan onder andere gesien word in die verskillende akademiese wêreldkongresse wat in die afgelope tyd oor die Bybel as kanon gehou is.

Die Society of Biblical Literature (SBL) het by sy byeenkomste te Boston VSA (2008), Tartu in Estland (2010), Amsterdam in Nederland (2012), Wene in Oostenryk (2014) en Berlyn (2017) aan verskillende aspekte van die begrip kanon aandag gegee. Die Institut für Judaistik by die Universiteit van Wene het saam met die Institut für Evangelische Theologie van 30 Mei tot 3 Junie 2010 ’n kongres by die Universiteit van Koblenz-Landau, Duitsland gehou. Dit het die navorsers van die Ou Testament, Dooie See-rolle, Apokriewe en Pseudepigrawe, Nuwe-Testamentiese en Rabbynse geskrifte bymekaar gebring om interdissiplinêr oor kanons te besin. Tydens die Somerskool by die Universiteit van Fribourg, Einsiedeln, Duitsland, van 25 Mei tot 7 Junie 2012, is verskillende voordragte oor die para-Bybelse geskrifte soos dié by Qumran en die verhouding tot die gekanoniseerde Bybelversamelings gelewer. Die kongres by New College, Universiteit van Edinburgh, Skotland, het daglank op 6 Mei 2015 besin oor die tema “Gesag en kanon”. Die jongste is die vier dag lange webinaar wat die Skirball Departement van Hebreeuse en Judese Studies van New York van 17 tot 20 Mei 2020 aangebied het oor die Dooie See-rolle en onder andere die verhouding daarvan tot die Bybelse kanon. 

Uit hierdie lys van kongresse wat verskillende aspekte van die begrip kanon behandel het, is dit duidelik dat die vraagstuk van die kanon wêreldwyd tans baie aktueel is en op akademiese gebied baie aandag geniet.

 

4. Die begrip kanon 

Tydens die genoemde 2020-kongres in New York het Eugene Ulrich dit telkens beklemtoon dat daar eers duidelikheid gekry moet word oor wat die term kanon beteken voor dat daar aan ander aspekte daarvan aandag gegee kan word. Wat die Bybel aanbetref is dit interessant dat die woord kanon (of ’n soortgelyke term) nie in die Bybel self voorkom nie. Dit is eers teen die 3de en 4de eeu deur onder meer Origenes en Eusebius gebruik om die status van die Bybel as kriterium vir die geloof aan te dui. Die afbakening van ’n bepaalde versameling geskrifte as die Bybel was ’n ontwikkeling wat oor etlike eeue gestrek het.

Stordalen (2001:132) onderskei tussen formele kanongeskrifte en gekanoniseerde praktyke soos idees en formules wat bepaal hoe iets behoort te wees om aan bepaalde vereistes te voldoen. Alle kulture wat van skrif gebruik maak, stel formele kanons op van literêre materiaal wat as maatstaf vir die maatskappy dien. Literêre kanons hou in dat mense in verskillende hoedanighede om verskillende redes keuses uitoefen oor bestaande literatuur en deur insluiting (of uitsluiting) daarvan in versamelings daaraan bepaalde kanonieke funksionaliteit gee.

Wanneer die term kanon ten opsigte van die Bybel gebruik word, is dit volgens Ulrich in sy voordrag op 17 Mei 2020 ’n tegniese term wat in die teologie gebruik word om ’n spesifieke versameling boeke aan te dui wat die Heilige Skrif uitmaak (vgl. ook Ulrich 2002:34 vir sy definisie van kanon). Volgens Ulrich se siening word die woord Bybel gebruik om die fisiese vorm van hierdie versameling aan te dui. Dit is ’n bundel tussen twee buiteblaaie wat ’n bepaalde versameling bevat. Hierdie versameling is die kriterium vir geloof in die geloofsgemeenskap. Dit bestaan uit ’n gefinaliseerde lys van algemeen-aanvaarde en -erkende gesaghebbende boeke wat as kanon vir die gemeenskap geld. Die lys van boeke wat in een Bybelbundel opgeneem is, is die uitkoms van ’n besluitnemingsproses waarin oor die verloop van tyd ernstig oorweeg is watter boeke in die versameling behoort en watter nie. Dit laat volgens Ulrich ruimte daarvoor dat die inhoud van ’n bepaalde boek kan varieer, soos later aangedui sal word, maar dat die boek self as boek deel is van die finale lys van boeke wat as kanon aanvaar word.

Vir Thomassen (2010:19–28) omvat die term kanon twee aspekte, naamlik norm sowel as lys. Die term kanon vir die Bybel kan dui op norm, reël, patroon, of model. Ulrich (2002:28) het hierna verwys as die aspek van norma normans (normerende norm), die gesaghebbende beginsel wat bepaal wat geloof is. Iets kan egter normatief wees sonder om noodwendig deel van ’n bepaalde lys te wees. Dit kon alreeds as norm aanvaar gewees het nog voordat dit in ’n finale lys opgeneem is. In die geval van die Bybel dui kanon terselfdertyd ook op ’n lys. Waar ’n norm in terme van Stordalen (2001) hier bo kwalitatief en substansieel is, is ’n lys kwantitatief en formeel. Ulrich (2002:28) gebruik hiervoor die terme norma normata (genormeerde norm), die gesagdraende lys, wat as Skrif aanvaar is. Waar ’n lys tegelyk ook ’n normatiewe doel het, word die twee begrippe met mekaar verbind. In die geval van die Bybel het ons te doen met ’n vasgestelde lys van boeke wat terselfdertyd as norm geld. Dit is twee aspekte wat parallel langs mekaar staan. Ongelukkig word hierdie twee aspekte dikwels met mekaar verwar en word die normatiewe dikwels afhanklik van die vasgestelde lys gemaak. In die geledere van die hedendaagse ortodokse Protestantse kerke word die klem dikwels op die aspek van ’n uitsluitende lys van boeke geplaas. Daar word dan buite rekening gelaat dat die lys van kanonboeke tussen verskillende vertakking van die Christendom verskil, maar tog huldig hulle almal dieselfde oortuiging dat die versameling gesaghebbend is.

Uit die uiteensetting hier bo kan ons aflei dat daar drie sake is wat ter sprake moet kom. Eerstens gaan dit oor boeke wat elkeen oor ’n tydperk van twee millennia geskep is, veranderings ondergaan het en finaal in ’n kanon opgeneem is. Tweedens was dit ’n baie lang proses waarin die boeke van ander literatuur onderskei is en uiteindelik deel van ’n finale versameling geword het. Derdens is die lys of lyste van boeke die produk van ’n proses van oorweging en besluit wat deur eksterne faktore soos ideologie bepaal is. Oor hierdie proses het die ontdekking van dokumente by Qumran en Nag Hammadi nuwe insigte gebring.

 

5. Nag Hammadi en Qumran

Die ontdekking van antieke geskrifte by Nag Hammadi (Egipte) in 1945 en ook by Qumran (Dooie See, Israel) in 1946–7 het die prentjie rondom die kanon radikaal verander.

By Nag Hammadi is daar in 1945 twaalf boeke in kodeksvorm en ook fragmente van ’n dertiende boek gevind. Die boeke is Koptiese oorskrywings en vertalings van die vroegste Christelike geskrifte. Die een geskrif is bekend as die Evangelie van Tomas. Dit bevat ’n aantal woorde en gelykenisse van Jesus wat baie ooreenkom met die inhoud van die vier Evangelies in die Bybelse kanon. Hierdie ontdekking het vir die navorsing van die kanon van die Nuwe Testament verskillende nuwe moontlikhede geopen.

Ook wat die Ou Testament betref het daar antieke geskrifte aan die lig gekom. Gedurende 1946–7 is daar afgekom op rolle wat in kruike in die grotte by Khirbet Qumran bewaar is. Dit is geleë aan die noordwestelike oewer van die Dooie See in Israel. In die verskillende grotte in die omgewing was verskillende rolle al vir die laaste 2 000 jaar in kruike weggesteek. 

In die 11 grotte by Qumran het ongeveer 900 dokumente aan die lig gekom. Hulle staan bekend as die Dooie See-rolle. Sommige van die dokumente was baie fragmentaries vanweë verwering oor die lang tyd wat verloop het vanaf die begin van ons jaartelling tot met hulle ontdekking. Ander is weer heel volledig. Die meeste was op velle van leer geskryf, 150 op papirus en drie blaaie van een manuskrip op uitgerolde koperblaaie. Hierdie blaaie is aanmekaar gewerk om ’n lang strook van soms etlike meter te vorm wat as ’n boekrol opgerol word. Dit is waar die woord “rolle” in die naam Dooie See-rolle vandaan kom.

Die manuskripte wat aan die lig gekom het, is genommer volgens die betrokke grot waarin dit gevind is en die onderwerp waaroor dit gegaan het. So verwys “1QIsa” byvoorbeeld na een van die Jesajarolle wat in die eerste grot van Qumran ontdek is. Dit bestaan uit 17 aanmekaargewerkte velle perkament, in Hebreeus geskryf, 734 cm lank en tussen 25 en 27 cm breed. Dit word tans in die Shrine of the Book-museum in Jerusalem bewaar.

Martinez (2012:527) verdeel die dokumente wat daar gevind is, in drie dele. Die eerste is Bybelse of kanonieke dokumente. Die tweede is sogenaamde apokriewe en pseudepigrafiese geskrifte. Die derde groep verteenwoordig Esseense literatuur uit die laat Tweede Tempeltydperk. Daar word in akademiese kringe daarna verwys as die sektariese geskrifte. Tov (2017:130) verdeel die rolle by Qumran wat betrekking het op die Hebreeuse teks, in drie groepe: dié wat hele Bybelboeke bevat (soos 1QIsaa ); fragmentariese rolle, wat slegs gedeeltes van ’n Bybelboek bevat; en afskrifte en kommentare op hierdie boeke wat vir liturgiese gebruik bedoel was. Die materiaal uit die 11 grotte is volgens Brooke (2005:xvi) ’n groep mense uit daardie omgewing se biblioteek vir godsdienstige doeleindes wat uitdrukking aan bepaalde ideologiese tendense gegee het. 

Sedert 1946 is daar ook by Ein Fesjka, Massada en Machaerus in Israel geskrifte gevind wat uit dieselfde tyd kom. Na hierdie geskrifte word gewoonlik verwys as dokumente uit die Judese wildernis. Afskrifte en vertalings daarvan is sedert 1955 in die tydskrifreeks Discoveries in the Judaean Desert (DJD) gepubliseer. Van die nie-Bybelse rolle was bekend as die Gemeenskapreël (11Q19), die Koperrol (3Q15), die Pesjer Habakuk en die Damaskusdokument. In DJD word daar na hierdie soort materiaal verwys as parabybelse literatuur.

Vir die Bybelwetenskap is dit belangrik dat 200 van die manuskripte en fragmente wat oorgebly het, ooreenstemmende inhoud het met die afsonderlike boeke wat in die latere Hebreeuse kanon staan. Hierdie boekrolle het los van mekaar gestaan en elkeen afsonderlik ’n bepaalde Bybelboek verteenwoordig. Daar was geen bepaalde volgorde waarin hulle gebruik is nie. Die bundeling van hierdie boeke in een enkele kanonversameling was totaal uitgesluit vanweë die aard daarvan as opgerolde manuskripte wat los van mekaar staan. Na hierdie dokumente word verwys as proto-Masoreties of proto-Rabbyns. Die tekste van hierdie dokumente stem redelik ooreen met wat later met die versamelnaam Masoretiese Teks aangedui sou word (Elgvin 2008:9). Tekste wat later in die Judese woestyn daar naby gekry is, is bykans identies met die Masoretiese Teks. Wat met Masoretiese Teks bedoel word sal later hier onder aangedui word.

Die enigste volledige boek wat by Qumran gevind is, was die Jesajarol uit die 1ste eeu v.C. Met uitsondering van Ester kom daar parallelle weergawes van al die ander gedeeltes van die latere Hebreeuse Bybel voor. 87 manuskripte kom ooreen met dele van die Pentateug, 54 met dele uit die Profete en 67 met dele uit die Geskrifte. Volgens Crawford (1999:1–2) is 16 manuskripte van Genesis in grotte 1, 2, 4, en 6 gekry. 14 manuskripte in grotte 1, 2, 4, en 7 kom ooreen met dele uit Eksodus. Die boek Levitikus word verteenwoordig deur agt manuskripte uit grotte 1, 2, 4, 6 en 11. Numeri word verteenwoordig deur vyf manuskripte in grotte 2 en 4. Gedeeltes van Deuteronomium word deur 28 manuskripte verteenwoordig in grotte 1, 2, 4, 5, 6 en 11. Daar is ook kommentare op die Profete in hierdie gedeeltes gevind. Van die boek Habakuk is slegs fragmente gevind. In die kommentare wat by Qumran gekry is, word gedeeltes uit die ander “Bybelse” dokumente aangehaal. Daaruit was dit moontlik om die eerste twee hoofstukke van Habakuk te rekonstrueer.

Volgens Elgvin (2008:11–2) het die materiaal uit Qumran ook nou lig gewerp op die vertalings van die Hebreeuse geskrifte tydens die Tweede Tempeltydperk. ’n Eerste groep vertalings het gebruik gemaak van ’n vorm van die Hebreeuse manuskripte wat baie naby aan die latere Hebreeuse teks in die TaNaK was. ’n Tweede groep tekste het in sommige opsigte afgewyk, moontlik omdat ander of parallelle Hebreeuse tekste gebruik is. ’n Derde groep het ooreenkoms getoon met die teks van die latere Samaritaanse Pentateug. Die Ou Griekse Vertaling, die Griekse Septuagint en Latynse Vulgaat was vertalings van die tweede “afwykende” groep Hebreeuse tekste. Hierdie vertalings word verbind aan Aleksandrië in Noord-Afrika. In die Griekse Septuagint kom boeke voor soos 1 Samuel, 1 Konings, Jeremia, Ester, Esegiël en Daniël. Op literêre vlak verskil die vertalings van hierdie boeke gedeeltelik van wat later in die Hebreeuse kanon sou staan. Dit toon dat variante van die Hebreeuse teks in daardie tyd in omloop was. Daar was nog nie so iets soos ’n finale of gestandaardiseerde teks nie. ’n Vergelyking van die een groep Bybelse rolle wat by Qumran gevind is saam met die Septuagint, maak dit duidelik dat die Hebreeuse teks nie konstant was nie, maar deur ’n lang proses van ontwikkeling gegaan het. ’n Vertaling is destyds vanuit die Hebreeuse teks gemaak soos dit op die bepaalde tyd van die vertaling daar uitgesien het. Dit is moontlik die rede daarvoor dat Jeremia in die Septuagint uit een van die ander weergawes gemaak is en daarom korter is as die Hebreeuse Jeremia. Esegiël is vertaal uit ’n parallelle Hebreeuse manuskrip wat verskil van die latere Hebreeuse teks. Dit was ietwat langer in die Griekse vertaling. Josefus (37–100 n.C.) sou later berig van variante van die boeke Josua en Rigters.

Hierdie ontdekkings het verskillende moontlikhede geopen vir die navorsing wat nie vroeër bestaan het nie. Voorheen het die oudste beskikbare Bybelse manuskripte uit die 5de en 6de eeu n.C. gekom. Hulle het slegs dele van die Bybel bevat, nie die hele huidig algemeen gebruikte Ou-Testamentiese kanon nie. Danksy die ontdekkings by Qumran het daar nou manuskripte en inligting na vore gekom wat dit moontlik gemaak het om minstens 500 jaar terug in die geskiedenis te beweeg. Die verrassing was dat die tekste uit daardie tyd dieselfde vorm gehad het as die Hebreeuse Bybel wat eeue later bestaan het (Tov 1992:13).

 

6. ’n Tyd van groei en ontwikkeling

Die rolle wat by Qumran gevind is, word verbind aan ’n gemeenskap by Qumran. Die Qumran-gemeenskap by die Dooie See het tussen 150 v.C. en 75 n.C. bestaan. Dit val aan die einde van die tydperk van die Tweede Tempel, ’n tyd waarin daar ’n geweldige opbloei in die skep van literatuur was. Die Qumraniete was ’n vertakking van ’n groter Esseense beweging. Tydens die Hasmonese tyd (140–63 v.C.) het die Esseense gemeenskap as selfstandige vertakking naas ander strominge in die Judaïsme bestaan. Daar was ook ander groepe, soos die Samaritane, Tobiadiede, Fariseërs, Sadokiete, en Henogiete, wat Wysheidsjudaïsme beoefen het. In die Qumran-geskrifte word na die Fariseërs verwys as Efraim, of die Bouers van die Muur. Na ’n ander groep word verwys as Manasse, wat moontlik die Sadduseërs aandui. Hierdie groepe het verskillende tradisies verteenwoordig wat voortdurend in gesprek met mekaar was en met mekaar gewedywer het. Daar het ook Joodse groepe elders bestaan, soos in Aleksandrië in Egipte. Hierdie ander tradisies het oor die eeue grootliks verlore geraak en is eers baie later herontdek, soos by Nag Hammadi. Nog ander tradisies het in veraf geleë gebiede soos Etiopië bly voortbestaan, waar dit deel geword het van hulle uitgebreide godsdienstige kanon.

VanderKam (2012:96) wys op verskillende maniere waarop die Dooie See-rolle bygedra het tot ons kennis van die vroeë Judaïsme. Dit het nou moontlik geword om vanuit die Dooie See-rolle ’n beeld te vorm van die eerste eeue voor ons jaartelling en van die Christelike tyd daarna. Tussen die tradisiestrome wat parallel langs mekaar in die Judese gebied bestaan het, was daar ’n gemeenskaplike veld. Hulle het tot op groot hoogte die tradisie gedeel wat later op die Hebreeuse Bybel sou uitloop. Daar was egter variasies in dit wat oorgelewer is. Daarnaas het elkeen verder sy eie literatuur gehad, waarvan baie min nog beskikbaar is. Elke groep het sy versameling materiaal as gesaghebbend gesien en as norm aanvaar. Daar was volgens Elgvin (2008:17) ’n “pluriformity of Jewish traditions in the Land of Israel”. Elgvin (2008:7–8) verwys na parallelle skriftelike weergawes van die tradisie wat sy aan sy bestaan het. Elgvin (2008:22) praat van die gemeenskaplike in die verskillende tradisies as ’n “Jewish matrix” waaruit onder andere die Christendom se geskrifte later sou ontwikkel. Die verskeidenheid van manuskripte het ’n “consonant base”, of “consonantal framework” (Tov 1992:23) gevorm waarop die afsonderlike tradisies voortgebou het. Die rolle van Qumran dokumenteer die tekstuele verskeidenheid wat daar aanwesig was in die Judaïsme van daardie tyd. Dit dui ook aan hoe belangrik hierdie dokumente op hulle dag was. Dit gee ook iets van hulle outeurs weer. Dit is ook hoekom Ulrich aandui dat dit boeke self was wat uiteindelik kanon geword het ten spyte van variante in die woordelikse inhoud.

Die tradisie wat by Qumran voortgesit is, het alreeds kenmerke van kanonvorming gedra. In hierdie groeiende kanon het daar wel verskille tussen die groepe voorgekom, maar dit was volgens VanderKam (2012:7) minimaal. Die vloeibaarheid in die tekste wat oorgeskryf is, kan toegeskryf word aan ortografiese faktore – woorde wat soms uitgelaat is of op ’n ander manier gespel is, verklarende aantekeninge wat deur die kopieerder bygeskryf is, of selfs dele van die tradisie wat om ideologiese redes uitgelaat is. Daar is aanduidings uit die variasies in die Hebreeuse tekste wat by Qumran gevind is, dat die variasie teen die einde van die 1ste eeu n.C. begin verminder en uiteindelik verdwyn het. VanderKam (2012:15) teoretiseer dat dit moontlik daaraan te wyte is dat die persone wat ’n bepaalde tradisie gevolg het en ’n bepaalde variasie gevolg het, die sentrale en selfs enigste rol gespeel het om bepaalde tekste oor te skryf.

Daar is ook bepaalde keuses gemaak. Die uiteindelike Ou Testament verwys na baie ouer bronne wat nie in die Ou Testament opgeneem is nie. Dit verwys byvoorbeeld na die Boek van die Oorloë van die Here (Num. 21:14), die Boek van die Opregte (Jos. 10:13), die Annale van Salomo (1 Kon. 11:41), die Annale van die Konings van Israel (1 Kon. 14:19), die Annale van die Konings van Juda (1 Kon. 15:7, 23, 31), die Annale van Dawid (1 Kron. 27:24), die geskrifte van Samuel, Natan en Gad (1 Kron. 29:29), die Kommentaar van die profeet Iddo (2 Kron. 13:22), die Verhale van Jehu (2 Kron. 20:34), Moses se Wetboek (2 Kron. 34:14) en die Gedenkboek van God (Mal. 3:16). Hierdie “boeke” of “annale” e.d.m. waarvan gepraat word, was nie boeke in ons sin van die woord nie, maar eerder kort versamelings wette of uitsprake. In hierdie tyd was daar mondelinge en skriftelike wetsversamelings, volksvertellings, gedigte en anekdotes wat van geslag tot geslag oorgelewer is en hulle “Bybel” was waarin hulle van God geleer het. Hierdie bronne is as historiese verwysingsmateriaal gebruik, maar die inhoud daarvan het nie ingepas by die teologiese opset van die bepaalde latere Bybelboeke wat daarna verwys nie, soos dié van Kronieke. Hulle het nie dieselfde gesaghebbendheid geniet as die materiaal wat later deel van die kanon sou word nie. Dit klink bykans soos die Reformatoriese uitspraak oor materiaal wat wel gelees kan word, maar wat nie dieselfde gesag as die kanon se boeke het nie. Daar was dus ’n dinamiese proses aan die gang wat sekere dele van die tradisie as gesaghebbend erken het en ander weer nie.

Die Qumraniete het ’n groter versameling van tradisies gehad as ander Rabbynse groepe uit daardie tyd. In die ruïnes by Qumran is bewyse gevind van ’n vertrek waarin daar ink en tafels was wat gebruik was om dokumente te skryf en te kopieer. (Argeoloë noem die vertrekke by die Qumran-ruïnes die scriptorium.) In die proses is dokumente gekopieer wat geskryf was voor die tyd toe die gemeenskap daar gewoon het. Uit die ouderdom van sommige dokumente uit Qumran kan ons aflei dat hulle van elders daarheen gebring is. Die datering is deur middel van koolstof 14–toetse gedoen. Tussen 400 v.C. en 100 n.C. is in verskillende gemeenskappe binne die Judese gebied mondelinge tradisies op skrif gestel en bestaande tekste gekopieer, geredigeer en hersien, soos dié by Massada en Machaerus waar ook manuskripreste gevind is. In die tekste by Qumran kom daar ’n verskeidenheid van style en handskrifte voor, wat daarop dui dat daar moontlik selfs meer as een groep Qumraniete bestaan het. Daar het van sommige plekke niks oorgebly nie en mens kan uit argeologiese vondste slegs daaroor teoretiseer.

Hoewel daar nog glad nie op hierdie stadium sprake was van ’n finale kanon in die sin waarin ons dit later verstaan as ’n geformaliseerde lys van boeke nie, dink Stordalen (2001:137) dat daar reeds ’n redelik goed afgebakende versameling van boeke was wat algemeen as gesaghebbend aanvaar is.

Die belangrikste aspek van hierdie ontdekkings by Nag Hammadi en Qumran was die bewys dat die oorsprong van die dokumente van die Bybel ver terug in die verlede lê. Dit het uit hierdie vondste ook baie duidelik geword dat die verskillende kanonversamelings wat ons vandag het, by verre nie die enigste geskrifte was in die tyd van die Tweede Tempel nie. Die latere TaNaK was maar eers besig om vorm aan te neem. Wat ons oorgehou het, verteenwoordig ook slegs ’n breukdeel van die bestaande geskrifte van daardie tyd. Die ontdekking van die rolle en fragmente het die oë daarvoor oopgemaak dat daar op daardie stadium ’n groot vloeibaarheid in die totstandkoming van die latere Bybel was. Daar was redelik baie grys areas tussen die latere Bybelteks en die geskrifte van daardie tyd gewees. Die geskrifte moes met die hand geskryf word. Dit laat redelike groot ruimte vir foute en variasies soos linguistiese en stilistiese verskille, en soms selfs verskille in interpretasie. Hierin moes ideologiese redes en historiese omstandighede ook ’n rol gespeel het. Dit het alles meegebring dat die huidige kanon en sy wording histories en sosiologies binne ’n baie groter raamwerk bestudeer sal moet word.

 

7. Vanaf die 1ste Christelike jaartelling

Aan die begin van ons jaartelling was daar nog nie so iets soos ’n afgehandelde of vasgestelde Hebreeuse Bybel nie. Tov (s.j.:10) praat van “a textual plurality” (tekstuele veelheid). Sanders (1979:6) vermoed dat die teks in die Herodiaanse tydperk (30 v.C. – 70 n.C.) betreklik vloeibaar was. Tekste is in daardie tyd vrylik aangepas in die lig van die omstandighede waarvoor dit aangewend is (Sanders 1979:7). Dokumente uit die Judese wildernis (Nahal Hever en Wadi Muraba’at) tot by die opstand van Bar Kogba in 132–135 n.C. werp meer lig op hierdie tyd. Tot hiertoe was die Judese gemeenskap eerder tempelgeoriënteerd as aan ’n skriftelike dokument gebonde. Perkamentrolle is, soos in Jesus se tyd (vgl. Luk. 4:17–21), wel vir die liturgie in die sinagoges en die tempel gebruik. Eers met die verlies van die tempel in 70 n.C. het die geskrewe woord sentraal begin word en besondere aandag begin geniet.

Inligting oor hierdie tyd kom onder andere uit die werke van die wysgeer Philo van Aleksandrië (20 v.C. – 50 n.C.). Hy het hoofsaaklik op die Wet in die Ou Testament gekonsentreer. Philo het met die Ou Griekse Vertaling van die Hebreeuse Ou Testament gewerk. Hy was bekend vir sy allegoriese uitleg van die teks. Sy bekendste werk was Quaestiones (Vraagstukke), ’n kategetiese uitleg van die eerste vyf boeke van die Bybel, die Pentateug. Sy werk gee ’n aanduiding van watter dele van die Hebreeuse Bybel reeds op daardie stadium so ver ontwikkel het dat dit as bronteks gebruik kon word. Philo se De Vita Contemplativa (Nadenke oor die lewe) verwys ook na ’n driedelige versameling. Die Vita verwys in III, 25 na die Terapeutae se geskrifte wat bestaan uit wette, uitsprake deur die profete, en ander psalms. Dit stem ooreen met die lys in die Qumran-geskrif 4QMMT. Volgens Cohen (2014:179) is die Wet in hierdie tyd heiliger as die Profete beskou. Die Wet is met Moses verbind, met wie God direk sou gepraat het. Op hulle beurt was die geskrifte van die Profete van ’n hoër orde as die Geskrifte. Dit verklaar moontlik hoekom Philo voorkeur aan die Wet gegee het.

Vir die tyd voor die vernietiging van Jerusalem in 70 n.C. is daar inligting uit verskillende manuskripte van die tyd beskikbaar. Dit sluit in die tekste van Massada, geskryf voor 73 n.C., die silwerrol van Ketef Hinnom, die Nash papirus uit Egipte, en voorwerpe soos die tefillin (leerhouertjies met ’n perkamentrol daarin) en mezuzot (perkamentrolletjie wat teen die deurkosyn vasgesit word). Hierdie geskrifte en voorwerpe kom uit die Judese wildernis. Dan is daar ook nog die Severusrol wat Titus uit Jerusalem saamgebring het in 70 n.C.

Toe die Romein Titus die tempel van Jerusalem in 70 n.C. verwoes het, was daar ’n verskeidenheid manuskripte in omloop. Met die vernietiging van die tempel het baie van die Judese dokumente in die slag gebly. Dit het dit nodig gemaak om afskrifte te maak van die manuskripte wat wel behoue gebly het (Wendland 2017:116). Die bewoning van Qumran het teen daardie tyd al tot ’n einde gekom. Die gemeenskap se dokumente is weens die aanslae van Rome in die grotte by Qumran versteek. So kon dit gelukkig tot vandag toe behoue bly. Die mense wat uit Jerusalem gevlug het, het die skrifrolle wat hulle by hulle gehad het, met hulle saamgeneem en op verskillende plekke gaan bly. Hoewel daar baie sterk ooreenkomste was met byvoorbeeld die literatuurskat van Qumran, was daar ook wel verskille, ten opsigte van die aantal rolle wat gebruik is en die presiese bewoording daarin. Daar was nie op daardie tydstip sprake van net een bepaalde versameling of enige gestandaardiseerde lesing van die teks nie, eerder variantlesings met baie groot gemeenskaplike inhoud.

Na die vernietiging van die tempel in 70 n.C. gee die Judese leierskorps pad uit Jerusalem. Die Judeërs het hulself op verskillende plekke elders in die Judese gebied gaan vestig. Dit was ’n tyd van demografiese en sosioreligieuse verandering. Daar was geen sentrale liggaam wat die kanon gepromulgeer het nie. Op daardie stadium het die verskillende vertakkings van die Judaïsme verskillende, maar tog parallelle gesaghebbende tradisies gehad. Dit was sosiohistoriese faktore, soos groepdinamika, wat ’n deurslaggewende rol sou speel in wie se geskrifte toonaangewend sou word. Daar was ook ander versamelings wat as gevolg van verskillende sosiohistoriese omstandighede nie voortgesit is nie. Die gemeenskappe wat ander tekstradisies nagevolg het, het óf ophou bestaan, soos die mense van Qumran, óf het hulle gedistansieer van ander in die Judaïsme. Groepe soos die Samaritane en die Christene het minderheidsgroepe uitgemaak en hulle weergawes van die skrifte is grootliks gemarginaliseer.

In hierdie tyd kom kultuursentra en institute tot stand waar die oorgelewerde teks onder andere bespreek en gekopieer is. Onder die uitgewekenes was daar sogenaamde soferim (literatore) wie se werk dit was om oorgelewerde tekste te kopieer. Van die sentra was gevestig by Lod, Benay Berak, Sefaram, Seforis, Bet Sje’arim en Tiberias. Daar kom ook ’n instituut tot stand by Jamnia, sowat 20 km suid van Jafo. Die inrigting het onder leiding van Johanan ben Zakkai uit die Hillelskool gestaan. Dit het die voortgesette setel van die Sanhedrin (Joodse Raad) en versorgingsoord van die Judese tradisie geword. Hulle tekstradisie het mettergaan toonaangewend geword. Tov (s.j.:10) praat van ’n “proto-rabbinic (Pharisaic) movement”. Die uiteindelike aanvaarding van die Farisese weergawe van die tradisie was die resultaat van ’n magstryd tussen die godsdiensgemeenskappe wat deur die Fariseërs gewen is (Deist 1988:18). Jamnia was ’n koalisie van verskillende groepe. Enigeen wat buite hierdie koalisie gestaan het, is as minim (ketters) gebrandmerk. Dit het natuurlik ander versamelings van die geskrifte ontmoedig ten bate van die versameling wat in Jamnia gebruik is. Die teorie is vir lank in die navorsing gehandhaaf dat ’n afgebakende versameling Hebreeuse geskrifte (Ou Testament) teen die einde van die 1ste eeu by Jamnia uitgekristalliseer het wat die standaard vir die Judese versameling sou word. Hierdie teorie is mettergaan vervang deur die inligting dat daar nog talle ander plekke was waar die oorlewering gekoester is. Die finalisering sou eers veel later kom.

In die Nuwe Testament word daar na “die Wet en Profete” (kyk onder andere Matt. 7:12, Luk. 16:16, Hand. 13:15 en Rom. 3:21) of “die Wet van Moses, die profete en die psalms” (Luk. 24:44) of “die Wet, Profete en ander Geskrifte”, of “die Skrif” (Matt. 22:29) verwys. Hierdie wisselterme dui daarop dat daar in die vroeg-Christelike tyd en selfs teen die tyd dat die Nuwe Testament finaal tot stand gekom het, teen die 2de eeu n.C., nog nie sprake was van ’n finale Hebreeuse versameling nie. Nie net die Hebreeuse versameling nie, maar die Nuwe Testament self was teen daardie tyd nog in wording. 

’n Faktor in die versameling van Hebreeuse geskrifte was die teenkanting teen die Christene (Heard 2004:16). Na die Joodse opstand van 66–73 n.C. het die Judese leiers baie sterk probeer om hulle van die Christene te onderskei. Elgvin (2008:18) dink dat die toenemende teenkanting teen Joodse Christene eers teen die einde van die 2de eeu n.C. vlam gevat het. In die vertolking van die viering van Paasfees was daar ’n duidelike polemiek teen Christene aanwesig. In die Misjna Pesahim is die Rabbynse kommentaar van Mekilta de-Rabbi Ismael opgeneem. Hierin word ’n polemiek gevoer teen die Christelike tradisie van die Paasfees soos dit deur die Christene Justinus en Melito verstaan is. Terwyl die vroeë Christene die Septuagint gebruik het, het die Judese leiers die Hebreeuse vorm van die teks daarteen afgespeel. Al was die Septuagint deur Jode in Aleksandrië in Grieks vertaal, het daar teenkanting teen hulle vertolking van die Paasfees gekom (Tov s.j.:11). Dit was vir hulle belangrik om die Hebreeuse teks(te) self so noukeurig moontlik oor te dra. Die keuse oor die tradisie en hoe dit vertolk moet word, lei dus hier tot konflik tussen Jode en Christene, ook wat betref die bepaling van ’n uiteindelike kanon. 

Volgens Collins (1995:230) was daar wel in hierdie tyd ’n “canon consciousness” wat so ver teruggaan as die promulgering van Josia se wetboek in 621 v.C. VanderKam (2012:51) verwys na “a concept of authoritative writings” wat op daardie stadium bestaan het. In die voorwoord tot die apokriewe boek Ben Sira (einde 2de eeu v.C.) is daar ’n lys van Hebreeuse boekrolle. Vir Collins (1995:232) begin die gedagte van ’n omskrewe korpus eers in die laat 2de eeu n.C. ontplooi. Daar was wel teen 70 n.C. ’n kernkanon (Collins 1995:232) van Wet en Profete aanwesig. Hieroor was daar wel konsensus, soos uit die gebruik van die benaming in die Nuwe Testament hier bo blyk. Daarnaas was daar egter nog ’n swerm ander boeke in omloop wat ook gesag gehad het, maar verlore gegaan het.

Volgens Tov (1992:34) was daar reeds op daardie tydstip pogings om tekstuele variasies van die tradisie te verminder. Die aanvaarding van ’n bepaalde teks as gesaghebbend het eerder van onder na bo (Lim 2013:1) gekom. Dit is nie van bo af deur sekere gesagsfigure afgedwing nie, maar was eerder ’n praktiese proses vanuit die daaglikse praktyk om van onder van die bevolking af na bo te besluit of sekere boeke as gesaghebbend aanvaar moet word en ander weer nie. Lim (2013:1) praat van ’n demokratiese tipe “majority Canon” (meerderheidskanon). Cohen (2014:190) sien dit as ’n proses wat deur die Joodse gemeenskap self gedryf is. Dit is eers wanneer die bepaalde geloofsgemeenskap in sy geheel ’n versameling aanvaar het dat dit as gesaghebbend beskou kon word. Dit verklaar hoekom verskillende geloofsgemeenskappe verskillende versamelings kon hê (Cohen 2014:190).

Daar kan vir hierdie tydperk in die geskiedenis van proto-Masoretiese tekste (in die meervoud) gepraat word wat later op een algemeen aanvaarde kanon sou uitloop. Daar het wel ’n groep konsonantetekste bestaan waaruit later die sogenaamde Masoretiese teks(te) sou voortvloei. Hierdie tekste het ’n baie ou tradisie weergegee waarvan sommige dele honderde jare oud was. Tov (s.j.:12) praat van die latere Hebreeuse tekste as “a medieval text with roots in antiquity”. Alhoewel daar op daardie stadium ’n sterk begeerte vir tekseenheid was, was daar tog verskille tussen die tekste. Tov (1992:34) is egter oortuig dat die tekste van die vroeg-Christelike tydperk alreeds ’n baie kleiner spektrum van variasie vertoon het. Volgens Tov (1992:25) was dit eerder sosioreligieuse faktore wat ’n deurslaggewende rol in die verskille gespeel het as die gehalte van ’n bepaalde teks self.

’n Verdere wending kom na die Bar Kogba-opstand teen die Romeine (132–136 n.C.). Die inwoners van Jerusalem wat nog oorgebly het, is verpletterend verslaan en die Judeërs is finaal uit Jerusalem verdryf. Volgens Elgvin (2008:17–8) was dit juis hierdie opstand wat aanleiding daartoe gegee het om die tradisie hoofsaaklik op skrif oor te dra en ’n Judaïsme sonder ’n tempel verder te ontwikkel.

Wat vir die latere geskiedenis van die Hebreeuse teks belangrik is, is die hoofsentra van hierdie tyd. In die tydperk 200–500 n.C. ontstaan die Judese Talmoed, ’n skriftelike kommentaar op hulle Misjna. Daar was twee vorme van die Talmoed: die Babiloniese Talmoed en die Jerusalemse (of Palestynse) Talmoed. Die Babiloniese Talmoed kom van sentra soos dié by Nehardea, Sura, Pumbedita, Mahoza en Mata Mehasja in die Persiese gebied. Die Jerusalemse Talmoed ontstaan uit die aktiwiteite by sentra soos Tiberias. Dit sou daartoe lei dat daar twee parallelle strome was in die oorlewering van die Hebreeuse teks.

 

8. Die Masoretiese Teks 

Die groeiende Hebreeuse Bybel is vir etlike eeue in handgeskrewe vorm oorgelewer. Dit was in ’n medeklinkervorm, sonder enige vokale. Die teks wat die Farisese groepe vanaf die 2de eeu n.C. gebruik het, het toenemend voorrang begin geniet. Hulle weergawe het met verloop van tyd die tradisie van die hoofstroom in die Judaïsme geword (Tov 1992:23). Teen die tyd van die 7de tot die 11de eeu was hulle Bybelteks die norm in die meeste sektore van die Joodse gemeenskap. Dit is algemeen as die standaardteks aanvaar waaruit alle latere verwerkings gedoen en afskrifte gemaak moes word. 

’n Baie belangrike bydrae tot hierdie toonaangewende posisie is deur die Masorete gelewer. Hulle by die verskillende Joodse sentra verantwoordelik om die Hebreeuse teks noukeurig oor te skryf. Hulle was bekend as die oorleweraars, oftewel die Masorete. Die Hebreeuse woord masora kom uit Esegiël 20:37 waar dit dui op verbintenis of eise (Wendland 2017:118), meer bepaald die verbintenis aan die verbond. Tussen die 7de en 10de eeu n.C. het die Masorete hulle daarvoor beywer om die teks noukeurig oor te skryf, van aantekeninge te voorsien en die tekste wat hulle geskep het te versprei. Van hulle weergawes is derduisende kopieë oor die eeue gemaak en wêreldwyd versprei. Die stelsels wat hulle gebruik het om die Hebreeuse konsonanteteks oor te skryf, was nie gestandaardiseer nie en het van sentrum tot sentrum verskil. Die naqdanim (vokaaldeskundiges) het op ’n latere stadium die vokalisering bygevoeg. Ook wat die vokalisering betref het die stelsels verskil.

Na aanleiding van die werk wat die Masorete oor etlike eeue verrig het, word na die tekste wat hulle oorgelewer het, verwys met die kollektiewe naam Masoretiese Teks. Die verskillende Masoretiese tekste wat ons beskikbaar het, is tekste uit die Middeleeue. Daar bestaan egter nie so iets soos een gestandaardiseerde of oorspronklike Masoretiese teks nie. Dit is eerder ’n verwysing na oor die 6 000 beskikbare manuskripte van die Hebreeuse Bybel, en dele daarvan, wat baie naby aan mekaar staan. Tov (s.j.:18) dink nie dat die verskeidenheid enige afbreuk gedoen het aan die aanvaarding van die Masoretiese teks as gesaghebbend nie. Volgens Tov (1992:19) verteenwoordig die Masoretiese tekste antieke tekste van die Bybel wat vroeg reeds as die enigste aanvaarbare vorm van die teks in die hoofstroom van die Judaïsme aanvaar is.

Daar was twee groepe Masorete. Een groep was in Palestina werksaam in Jerusalem en in Tiberias en die ander in Irak (ou Babilonië). Die Ben Asjer-familie was gevestig in Tiberias by die See van Galilea en was bekend as die Tiberynse Masorete. Die ander was die Ben Naftali-familie, bekend as die Masorete van die Weste. Albei hierdie groepe het hulle gedurende die 9de en 10de eeu daaraan toegewy om die Hebreeuse teks te versorg en noukeurig oor te lewer. Die weergawes van die twee groepe het sover dit die konsonantgedeeltes aangaan, baie min van mekaar verskil. Die Ben Asjer-groep het ’n infraliniêre stelsel gevolg en gebruik gemaak van ’n Tiberynse vokaalstelsel wat by Tiberias ontwikkel is. Die Kodeks Leningradensis van 1008 word aan hierdie groep verbind. Van die Ben Naftali-groep het daar nie baie van hulle tekste oorgebly nie. Omdat die twee families verskillende stelsels vir vokalisering en aksentuering gebruik het, kom daar tog wel kleiner verskille voor. Die rolle wat by Murabba`at en Nahal Hever in die Judese Wildernis gevind is, toon ooreenkoms met beide Masoretiese weergawes. Dit was veral die Palestynse teks van die Ben Asjer-groep wat in die Middeleeue meer aanvaarding begin geniet het en waaruit die verskillende Rabbynse Bybels en ander teksuitgawes gemaak is.

 

9. ’n Gedrukte Bybel

Die 15de en 16de eeu is bekend as die tyd van die Renaissance, die tyd van die “ontwaking”. Die tydsgees was gekenmerk deur ’n nuwe belangstelling in antieke kulture, hulle kunswerke en hulle geskrifte. Die Kerkhervorming was een van die neweprodukte van die Renaissance. Die bewuswording van die waarde van klassieke geskrifte het tot die slagspreuk “ad fontes” (“terug na die bronne”) gelei. Volgens Deist (1988:199) het hierdie keuse die Hervorming se slagspreuk van “sola scriptura” (“slegs die Skrif”) onherroeplik met die slagspreuk “ad fontes” gekombineer. Hierdie tendens het nie net die definisie van die latere Tekskritiek beïnvloed nie, maar ook die Skrifbeskouing in die teologie. Dit het aan die konsep kanon “a ‘textual’ definition” (’n teksgebonde definisie) (Deist 1988:199) gegee. Die Septuagint en Vulgaat, wat tot dan vir die Ou Testament gebruik was, was ’n vertaling van die ouer Hebreeuse Ou Testament. In die gees van die tyd was dit dus vanselfsprekend dat die kerk moes teruggaan na die heel oorspronklike klassieke Hebreeuse en Griekse tekste self.

 

10. Die Protestante se hibriede Ou Testament

Die terugkeer na die bronne het bepaalde gevolge vir die Protestantisme ingehou. Die omvang van die Nuwe Testament wat in die Rooms-Katolieke Vulgaat gebruik is, was vir die Reformasie aanvaarbaar. Die Nuwe Testament in die Latynse Vulgaat kan na die Griekse Septuagint teruggevoer word. Die Grieks het aan die eis van die oorspronklike bron voldoen. Die probleem was egter dat die Ou Testament soos dit in die Vulgaat en Septuagint in Latyn en Grieks weergegee is, nie die oorspronklike Hebreeus bevat het nie. Die enigste uitweg was om by die Jode te gaan kers opsteek oor die Hebreeuse Masoretiese teks.

Die kerklike debatte van die 16de eeu het onder andere die saak van die bepaalde Hebreeuse weergawe van die Ou Testament na vore gebring. Tot 1519 het Luther onder andere ook van Griekse Bybelboeke wat nie in die Hebreeuse Ou Testament voorkom nie, gebruik gemaak. Die wending kom in 1519 wanneer hy in Leipzig swaarde begin kruis met Johannes Eck. Eck beroep hom op 2 Makkabeërs 12:43–5 vir die siening dat daar ’n vaevuur bestaan. Makkabeërs was deel van die Septuagint en dus deel van die Rooms-Katolieke Ou Testament, maar nie deel van die Hebreeuse Ou Testament nie. Op grond daarvan betwyfel Luther die gesag van die boek. Vir Luther is die Skrif soos hy dit definieer die enigste maatstaf wat gesag het, en sy definisie van wat Skrif en dus kanon is, word verbind aan die Hebreeuse teks en begin verskil van die gangbare siening in die Rooms-Katolieke Kerk wat die Latynse Vulgaat en die Griekse Septuagint gebruik het.

In sy bydrae tot Andreas Bodenstein von Karlstadt se publikasie De canonicis scripturis (aangaande die kanonisiteit van die Skrif) van 1520. degradeer Luther 3 en 4 Esdras, die Gebed van Manasse, Barug en die Byvoegings by Daniël in die Septuagint. Hierdie boeke het volgens hom ’n mindere kanonieke status. Luther se vertaling van die Nuwe Testament van 1522 sit hierdie tendens van degradering voort en onder andere klassifiseer hy Jakobus as ’n boek van strooi. Luther wend twee maatstawwe aan: die humanistiese siening van sy tyd oor klassieke outeurskap en op ’n glyskaal die onderskeid in die graad van Christusverkondiging in elke Bybelboek. Hy volg hierdie rigsnoere na in sy vertaling van die Pentateug in 1523. Hy rangskik die boeke van die Hebreeuse kanon volgens opeenvolgende getalle van numeriese syfers. Daarna kom boeke wat nie in die Hebreeuse versameling voorkom nie, maar nou sonder enige getal en langs die kantlyn ingekeep.

Die uitgawe van Luther se hele Bybel in Duits verskyn in 1534. By die oorspronklike nie-Hebreeuse boeke kom die opskrif “Apokriewe boeke” wat nie dieselfde status het as die Hebreeuse boeke nie, maar wel gelees kan word. Luther volg die ou siening van Hieronymus (345–420 n.C.) dat die nie-Hebreeuse boeke wel gelees kan word, maar nie vir die kerk se leerstellings gebruik kan word nie. Hy gee nie enige motivering vir die onderskeid wat hy maak nie, maar in sy aantekeninge by elke boek gebruik hy die maatstaf van betroubare outeur, betroubare geskiedskrywing en wat van teologiese minder waarde is. Root (s.j., sonder bladsynommers) wys daarop dat hy die eksterne maatstawwe gebruik het van vermoedelike outeurskap en volgens sy bepaalde siening die aanwesigheid van leerstellings oor Christus in die Hebreeuse kanon.

Nog ’n faktor was die teologiese vraag na die verhouding tussen die Ou en die Nuwe Testament as die een Woord van God. Die Jode het natuurlik nie hierdie probleem gehad nie, maar eerder gefokus op die verhouding tot hulle Misjna en Talmoed. Die Christendom kon egter nie die vraagstuk van die verhouding ignoreer nie. Die Septuagint met sy narratiewe lyn van boeke van die verlede (Pentateug en Vroeë Profete), boeke van die hede (Psalms en ander dele van die Geskrifte) en die boeke van die toekoms (Groot en Klein Profete) het die oplossing gebied. Bonaventura het reeds in 1274 die volgorde van wettiese, historiese, wysheids- en profetiese boeke geformaliseer. In die Paryse Universiteitsbybel (begin van die 13de eeu) kom die verdeling in historiese boeke, leerboeke en profete wel voor, maar hier word die Nuwe Testament nie struktureel op die model van die Ou Testament gebaseer nie. Die Reformatore het besluit om ook Bonaventura se volgorde te gebruik. Hierdie “historiese” lyn is sedert Hegel (1770–1831) se bepaalde geskiedenisbeskouing in die 19de eeu eerder as ’n evolusionêre ontwikkeling hanteer en ’n belofte en vervullingskema volgens sy siening van ontwikkelende geskiedenis het posgevat. Eksterne dogmatiese belydenis eerder as wetenskaplike ondersoek na die bronteks van beide Testamente en sy ontwikkeling het dus hier die oorwegende rol gespeel.

Die gedagtes van Luther oor die kanon is voortgesit in die werk van Zwingli (1484–1531) en Calvyn (1509–1564). Dit was ook die basis waarop die verskillende Belydenisskrifte wat hier bo genoem is, later geformuleer is. Die omvang van die Bybel as kanon en die bepaalde aantal boeke wat daartoe behoort, is in die Belydenisse uitgespel. Oor die variasies van die teks self was daar op daardie stadium slegs beperkte kennis. Hierdie saak sou in die formele Tekskritiek wat sou volg, wetenskaplik opgeneem word. Soos reeds aangedui, sou die latere ontdekking by Nag Hammadi en Qumran die beeld van die kanonvorming in nuwe rigtings stuur.

 

11. Formele Tekskritiek

Die beskikbare tekste van die Bybel verteenwoordig ’n lang manuskriptradisie en oorleweringsgeskiedenis. Wat nou nog beskikbaar is, is afskrifte van afskrifte. Hulle verteenwoordig bepaalde fases in hierdie lang geskiedenis van oorlewering. Die heel oudste weergawes van hierdie skriftelike dokumente is natuurlik al lank reeds daarmee heen. Deur navorsing van beskikbare dokumente kan hulle met mekaar vergelyk word en kan teorieë ontwikkel word oor hoe die geskiedenis van manuskripvorming en uiteindelike versameling in een korpus verloop het. 

Dit is juis die gebied van die dissipline Tekskritiek om navorsing te doen oor hierdie lang proses van teksoorlewering. Sanders (1979:12) onderskei vier fases vir tekskritiek: navorsing na ’n moontlike oerteks, ondersoek na die fase van ’n aanvaarde teks, identifisering van tekste wat ontvang en oorgelewer is, en die bestudering van die uiteindelike Masoretiese en Nuwe-Testamentiese tekste. Die verlore boeke waarna die Ou Testament verwys, val onder die hipoteses van die oerteks. Tekskritiek probeer bepaal hoe die tekste gelyk het wat vanuit die tradisie ontvang is. Volgens Sanders (1995:59) het hierdie fase te doen met die tyd waarin die tekste kanonies of gesaghebbend, as norma normans (normerende norm), in antieke geloofsgemeenskappe begin funksioneer het. Dit verbind Tekskritiek weer direk met Kanonkritiek. Sanders (1995:59) praat van die “interface between text criticism and canonical criticism” (tussenvlak tussen Tekskritiek en Kanonkritiek). In die derde fase word alle moontlike Bybelse manuskripte wat oorgebly het, wêreldwyd opgespoor. In die vierde fase word ’n gerekonstrueerde Bybelteks gepubliseer wat op grond van die Masoretiese tekste en vergelyking met hierdie ander beskikbare manuskripte probeer aantoon wat die beste en mees verantwoordbare en gefundeerde lesing van die Bybelteks kan wees.

In hierdie navorsing speel variasies op die Masoretiese teks en vertalings daaruit ’n groot rol. Die Samaritaanse Pentateug is ’n voorbeeld van variasies op die Hebreeuse teks. Onder die antieke vertalings tel die Ou Griekse vertaling uit Aleksandrië in Egipte van die 2de eeu n.C., die Griekse Septuagint, die Aramese Targumim, die antieke Siriese Pesjitta, die Griekse vertaling van Aquila, en dié van Teodotus en Summmagus. Hierdie vertalings word vergelyk met die Hebreeuse teks en bepaalde gevolgtrekkings word dan daaruit gemaak. Die resultaat van die navorsing word gepubliseer as ’n tekskritiese uitgawe van die Ou of van die Nuwe Testament. ’n Tekskritiese uitgawe bevat aantekeninge oor die manuskripte wat bestudeer is en die verskille tussen hierdie manuskripte in bewoording of in spelling. Alle huidige Bybels in alle tale oor die wêreld is vertalings van een of ander van hierdie tekskritiese uitgawes.

 

12. Tekskritiese uitgawes van die Ou Testament

Die uitvinding van die boekdrukkuns in die 15de eeu het nuwe uitdagings gebring. Die vraag was watter van die verskillende beskikbare manuskripte gebruik moes word om ’n Hebreeuse Bybel en Griekse Bybel te druk. Die omvang van beide die Ou en Nuwe Testament het teen daardie tyd reeds gestabiliseer. Daar was egter verskillende variasies in die antieke handgeskrewe dokumente wat gebruik kon word om die Bybel te druk.

Jakob ben Gajjim ben Adonijahu (1470–1538), ’n drukker in diens by Daniël Bomberg, was die redakteur van ’n tweede gedrukte Bybel in die jare 1524–1525. Hy het vir sy uitgawe die Masoretiese manuskripte van die Ben Asjer-familie gebruik. Sy uitgawe is die Bombergiana genoem. Dit het die standaardteks geword vir die Joodse uitgawes van die Hebreeuse Bybel wat daarna gedruk is.

Die werklike kritiese navorsing oor die Hebreeuse teks het eers later, in die 17de eeu, begin toe verskillende poliglot- (veeltalige) uitgawes die lig gesien het. Die eerste uitgebreide teksondersoeke kom van Morinus, Capellus en Simon. Capellus het in 1624 aangetoon dat die vokaaltekens ’n latere toevoeging in die Hebreeuse tekste uit die 6de of 7de eeu is. Die gedagte van ’n teks wat tot op die letter verbaal geïnspireer is, is sodoende as onhoudbaar uitgewys. Die eerste poliglotte is gevolg deur twee Miqra’ot Gedolot (verlengde Bybeltekste) bekend as die Rabbynse Bybel(s) (Tov 1992:78). Dit het Middeleeuse kommentare op die Hebreeuse teks en die Targumim (mondelinge Aramese vertalings deur ’n Meturgeman) ingesluit. Hierdie publikasies het die grondslag gelê vir die tekskritiese bestudering van Hebreeuse dokumente.

Van die oudste tekskritiese publikasies van die Ou Testament is dié van Kennicott se Vetus Testamentum Hebraicum cum variis lectionibus (Hebreeuse Ou Testament met verskeidenheid lesings) (1776–1780). Hierin het hy 615 manuskripte en 52 gedrukte stukke van dele van die Hebreeuse Bybel byeengebring. De Rossi het weer in sy uitgawe van 1784–1788 731 manuskripte en 300 deeluitgawes vergelyk.

Daar is vandag minstens vyf reekse kritiese uitgawes van die Hebreeuse Bybel beskikbaar. Net een van hulle, die Biblia Hebraica- (BH-) reeks, bevat die volledige Ou Testament. Die BH-reeks het by Rudolf Kittel van Leipzig, Duitsland begin. Hy het in 1906 die eerste kritiese Biblia Hebraica Kittel (BHK) (Hebreeuse Bybel van Kittel) uitgegee. Kittel het die Bombergiana (1524–1525) as die basis vir sy verwerking gebruik. Dit het alle manuskripte wat op daardie stadium beskikbaar was, met mekaar vergelyk. Dit is ook van tekskritiese aantekeninge voorsien wat variantelesings of stawende lesings uit die ou dokumente weergegee het. Vir die eerste keer is die teks in hoofstukke verdeel en dienooreenkomstig genommer. ’n Tweede uitgawe van Kittel se BHK het in 1913 verskyn. Die Bybelgenootskap van Württemberg het die kopiereg van die Biblia Hebraica gekoop en ’n derde uitgawe, die BHK3, tussen 1929 en 1937 uitgegee. Hierdie keer is die Kodeks Leningradensis (B19A) van 1008 as basisteks gebruik. Waar daar in die rolle wat by die Dooie See gekry is, nog verskille in die lesings voorgekom het, was daar in die 25 rolle wat by Murabba`at en Nahal Hever in die Judese Wildernis gevind is, bykans volkome ooreenkoms wat die konsonante betref met die inhoud van die Kodeks Leningradensis (Tov s.j.:13). Paul Kahle het as redakteur van hierdie uitgawe opgetree. In die kritiese apparaat aan die onderkant van elke bladsy is die tekskritiese notas in twee groepe weergegee: minder belangrike teksvariante en daaronder voorstelle vir ’n bepaalde lesing op grond van die verskillende beskikbare manuskripte van daardie tyd.

Die Kodeks Leningradensis (B19A) is in 1008/09 voltooi. Dit is die oudste volledige Hebreeuse teks wat ons vir die Ou Testament het. Hierdie dokument is met die hand op perkament geskryf en in buiteblaaie van leer gebind. Firkowitch het dit in 1839 na Odessa geneem. Van daar is dit in 1863 na die Nasionale Biblioteek van Rusland in St. Petersburg geneem. Die stad was vroeër bekend as Leningrad en die naam Leningradensis is vir die kodeks gebruik. 

In Stuttgart het die Duitse Bybelgenootskap die Kodeks Leningradensis as basis gebruik om die Biblia Hebraica Stuttgartensia (BHS) vanaf 1968 uit te gee. Sowat 12 medewerkers het hieraan saamgewerk en die vorige BHK-uitgawes se voetnote is totaal hersien. Die meeste van die rolle wat by Qumran ontdek is, was nou vir die heel eerste keer vir die navorsing beskikbaar. Die volledige verwerking van die BHS het in 1976 verskyn.

Die nuutste tekskritiese verwerking in die Biblia Hebraica-reeks bring die Dooie See-rolle wat sedert 1947–1948 ontdek is, volledig in berekening. Die publikasie is nog in wording en staan as die Biblia Hebraica Quinta, of Vyfde Hebreeuse Bybel, bekend.

Die Hebreeuse Universiteit van Jerusalem is al sedert 1956 besig met die Hebrew University Bible Project. Hulle werk word as die Hebrew University Bible (HUB) gepubliseer. Dit is op die Aleppo-kodeks gebaseer. Die projek bring die vertalings van die Septuagint, Vulgaat, Pesjitta, Dooie See-rolle en die twee Joodse Talmoeds in berekening.

Die Aleppo-kodeks kom uit die 10de eeu van Tiberias in Israel. Dit is na Egipte geneem en van daar na Aleppo, waar dit in die Sefardiese sinagoge bewaar is. Dit is in ’n brand gedeeltelik vernietig tydens die Israeli-Arabiese oorlog in 1948. Anders as die Kodeks Leningradensis bevat die Aleppo-kodeks nie die volledige Hebreeuse teks van die huidige Ou Testament nie.

Daar bestaan ook ander tekskritiese uitgawes soos dié van Breuer (Jerusalem, 1977–1982), Cassuto se Jerusalem Bybel (1952) en Snaith (Londen, 1958) wat op Sefardiese manuskripte gebaseer is. Vir die toekoms word gedigitaliseerde uitgawes, veral van die Kodeks Leningradensis, beplan. 

Die vertalings van die Ou Testament in Rooms-Katolieke kringe (Ricciuto 2006) is tradisioneel vanuit die Griekse Septuagint en die Latynse Vulgaat gedoen. In die Grieks-Ortodokse Kerke is ’n vorm van die Septuagint as die basisteks aanvaar. Gedurende die Roomse Konsilie van Trent op 8 April 1546 is die Latynse Vulgaat as die enigste legitieme weergawe van die Bybel aanvaar. Dit het die Deuterokanonieke boek ingesluit (Wendland 2017:98). Dit was dieselfde versameling as dié wat tydens die Konsilie van Florence in 1442 aanvaar is. Van daardie tyd af is die Vatikaanse Kodeks as basis vir vertaling in Rooms-Katolieke kringe gebruik.

Sedert die middel van die 20ste eeu het die klem verskuif en is die Hebreeuse en Griekse weergawes naas die Vulgaat as bronne vir ’n vertaling in die Rooms-Katolieke Kerk aanvaar. In die pouslike ensikliek van 1943, getiteld Divino Afflante Spiritu, word voorgeskryf dat vertalings in die plaaslike tale eerder uit die oorspronklike Hebreeus en Grieks as uit die Latynse Vulgaat gedoen moet word. Waar die Knox-Bybel van 1945 nog hoofsaaklik op die Latynse Vulgaat gebaseer was, het die Revised Standard Version Catholic Edition (RSVCE) van 1966, in samewerking met Protestante, van die Hebreeuse teks gebruik gemaak. Hierdie vertaling was ’n uitvloeisel van die Tweede Vatikaanse Konsilie van 1962–1965. Dit het in pas met groter veruniverseling die samewerking met ander vertakkings van die Christelike Kerk aanbeveel. 

Die eerste Rooms-Katolieke Bybel wat volledig op die Hebreeuse en Griekse oorspronklike gebaseer was, was die Jerusalem Bible van 1966. Ook die New American Bible (NAB) van 1970 was gebaseer op die Hebreeuse en Griekse oorspronklike tekste. In al die Rooms-Katolieke vertalings is, soos in die Septuagint en Vulgaat, die groter omvang met die Apokriewe boeke vir die Ou Testament behou. Nuwer Rooms-Katolieke vertalings soos die New Jerusalem Bible (NJB) van 1985 en die New Revised Standard Bible Catholic Edition (NRSVCE) van 1990 het dieselfde grondtekste behou, maar meer gefokus op vertaalsake soos inklusiewe geslagswoorde en polities-korrekte taal.

 

13. Slotwoord

Karl Barth (1886–1968) het in sy Kerklike Dogmatiek (Deel 1.1, afdelings 1–7, “Oor die Woord van God”) (vgl. Barth, Torrance en Bromiley (reds.) 2003) na die Ou en Nuwe Testament verwys as die mens-saamgestelde en -verkose versamelings wat ons die Bybel noem. Volgens 2 Petrus 1:20–1 kan die rol van die Heilige Gees nie ontken word nie. Eweneens kan ook nie ontken word dat dit mense is wat vir die versameling van Bybelboeke en vir hulle aanvaarding as kanon van die kerk verantwoordelik was nie. In kerklike taal gestel: God het nie verby gestuur van menslike, alte menslike, keuses en beslissings om sy Woord tot stand te laat kom nie. Dit is in hierdie volledig menslike woord met sy volle kultureel-gekontekstualiseerdheid dat die Woord van God na mense kom.

Gottwald (1985:316) wys op die funksie van kanonieke tekste vir die geloofsgemeenskap. Die gesag van die Bybel lê nie in die afsonderlike woorde of alleenstaande sinne van die Bybel self nie, maar in sy funksionaliteit om in sy geheel deur sy woorde mense voor God te stel en hulle in hulle onvolkomenheid te bemagtig om visionêr te dink en God te bely (Bird 1994:62). Hierdie gesag word telkens weer bevestig in die dinamiese proses waar die Bybel binne die konteks van ’n geloofsgemeenskap gelees word. Binne ’n dinamiese verhouding met God funksioneer hierdie Bybel met sy menslike kontekstualiteit as gesaghebbende Woord van God. ’n Mens kan daarvan praat as kontekstuele funksionaliteit.

Soos hier bo beredeneer is, moet die kanon in veel ruimer sin bedink word. Daar kan nie met die Belydenisskrifte volstaan word om eensydig klem op God as Outeur te lê nie. Mens kan, soos die Reformatore, praat van God se Heilige Skrif, maar kan nie vergeet dat dit telkens uitsprake was wat onheilige mense in ’n bepaalde tyd onder bepaalde omstandighede en met die kennis van daardie tyd gemaak het nie. Mens kan nie sonder meer van “die kanon” praat sonder om uitdruklik te sê watter geloofsgemeenskap se kanon bedoel word nie. Dit is ook nie meer moontlik om in isolasie na te dink oor wat bedoel word met die begrip kanon nie. Dit is ’n universele vraagstuk waaraan alle Christelike gemeenskappe deel het.

Hier is boeke ter sprake wat elkeen oor ’n tyd van twee millennia tot stand gekom het. Hierdie boeke het elkeen ’n baie lang proses deurloop waarin hulle van ander literatuur onderskei is en uiteindelik deel van die finale versameling geword het. Die verwysing na die Skrif in 2 Timoteus 3:16–17 moet verstaan word binne die raamwerk van hierdie geskiedenis en kan nie summier met die eindproduk geïdentifiseer word nie. Skrif verwys hier na die versameling soos dit ten tye van die skryf van die 2 Timoteus tussen 90 en 140 n.C. daar uitgesien het. Die lys van boeke in die kanonieke versameling was ’n veel latere uitkoms van ’n baie lang proses van oorweging en besluitneming.

Die standpunt dat die oorlewering normatief is, was nie onderhewig aan ’n finale vorm of lys nie, maar was deurentyd aanwesig as ’n dinamiese dryfveer in die proses om by die lys van ’n finale kanon uit te kom. Dit was ’n normerende tradisie, ’n proses met veranderlike komponente in sowel sy samestelling van literatuur as in die deelnemende maatskappy. Daar was ’n “metaphorical range of reference” (metaforiese speelruimte van verwysings) (Gottwald 1985:318) waarin die oorlewering telkens gekorreleer het met die bepaalde sosio-ekonomiese, politieke en kulturele belange van die godsdiensgemeenskap, maar terselfdertyd ook met die pad wat die tradisie tot op daardie stadium geloop het. Oor hierdie proses het die ontdekking van dokumente by Qumran en Nag Hammadi veranderde en nuwe insigte gebring.

Daar was nie so iets soos ’n kant-en-klaar-gemaakte kanon reg van die begin af nie. Dit was eerder ’n lang en soms pynlike proses waaruit ’n kanon gegroei het en op ’n stadium ’n punt bereik het waartoe daar nie verder iets toegevoeg is nie. Derduisende mense was oor die eeue heen deel van hierdie proses. Die uiteindelike proses van finalisering van die lys van boeke wat tot die kanon behoort, is gekenmerk deur verskille en variasie, magsgrepe en tendense, ten opsigte van die presiese aantal boeke sowel as die volgorde daarvan.

Die oorgelewerde tekste is op baie noukeurige wyse oorgeskryf en verder deurgegee. Die Masoretiese teks is getuienis hiervan. Die tegniek om boeke te druk het die stimulus gegee vir die tekskritiese wetenskap om nie net die versameling van die boeke nie, maar ook die inhoud van die teks op wetenskaplike manier na te vors. Die teks van sowel die Ou as die Nuwe Testament is nagevors en die resultate van die ondersoek is in talle tekskritiese uitgawes gedruk. Vanaf die vroegste vertalings is daar gebruik gemaak van die beste grondtekste wat op daardie stadium beskikbaar was. Dit sou baie onregverdig wees om die duisende mensure en geld wat aan hierdie projekte bestee is, sommer net so te ignoreer.

Die Bybel simboliseer die waardes en teologiese beskouings wat in die verskillende historiese kontekste gegeld het. Dit funksioneer steeds as a “map of reality” (Bossman 1993:13) vir almal wat hulle met die geloofsgemeenskappe van die Bybel identifiseer. Die gebruik van die Bybel is ’n multidimensionele aangeleentheid wat op interdissiplinêre en omvattende vlak hanteer moet word. 

Daar is twee gevaarpunte wanneer die Bybel as kanon hanteer word. ’n Beklemtoning van die Goddelike aspek ten koste van erkenning van die menslike aspek is geneig om daartoe te lei dat die Bybel letterlik gelees en die groter konteks van die hele kanon geïgnoreer word. ’n Logosentriese benadering maak die inhoud van die kanon los van tyd en omstandighede en probeer daaraan kontekslose, ewige betekenis te gee. Dit is die gevaar wanneer sommige hulle slegs op byvoorbeeld Deuteronomium 7:1–2 beroep om geweld te sanksioneer. Dieselfde is die geval wanneer Levitikus 20:13 gebruik word om gesaghebbende uitsprake oor die LBGTQI+-vraagstuk te lewer. Nie net die literêre en sosiologiese konteks behoort in berekening gebring te word nie, maar terselfdertyd ook die groter konteks van die kanon volgens sy geskiedenis van eeue lange ontwikkeling. Alte maklik word aan gewone menslike taal in die Bybel een of ander goddelike gesag toegeken.

Andersyds verloor persone wat die Bybel as gewone, antieke menslike literatuur lees, die eeue lange proses uit die oog wat aan hierdie bepaalde literatuur ’n geloofsfunksie verleen het. Dit ontken die inherente betekenis van die kanonteks dat dit met die God te doen het van Wie dit getuig.

Met al die gegewens wat in hierdie artikel aangebied is, behoort dit duidelik te wees dat die begrip kanon nie op simplistiese wyse gebruik kan word om gesag aan uitsprake te verleen nie. Dit is ’n veel meer omvattende saak as wat dit op die oog af sou lyk. Die begrip kanon sal verruim moet word indien die huidige Christelike kerk die Bybel as kanon en as gesagsbasis vir geldige uitsprake wil gebruik.

 

Bibliografie

Barth, K., T.F. Torrance en G.W. Bromiley (reds.). 2003. Church dogmatics 1.1: The doctrine of the Word of God. Londen: T&T Clark.

Beveridge, H. 1962. Institutes of the Christian religion by John Calvin. Deel 1. Londen: T&T Clark.

Bird, P.A. 1994. The authority of the Bible. In Sakenfeld (red.) 2007.

Bossman, D.M. 1993. Canon and culture: Biblical theology in context. Ongepubliseerde voordrag vir die byeenkoms van die Context Group, Portland OR, 18–21 Maart 1993.

Brooke, G.J. 2005. The Dead Sea Scrolls and the New Testament. Minneapolis, MN: Fortress Press.

Cohen, S.J.D. 2014. From the Maccabees to the Mishnah. Derde uitgawe. Louisville, KY: Westminster John Knox Press.

Collins, J.J. 1995. Before the canon: Scripture in second temple Judaism. In May, Petersen en Richards (reds.) 1995.

Crawford, S.W. 1999. The “rewritten” Bible at Qumran: A look at three texts. Faculty Publications, Classics and Religious Studies Department. Paper 35. http://digitalcommons.unl.edu/classicsfacpub/35 (2 Februarie 2020 geraadpleeg).

Deist, F.E. 1988. Witnesses to the Old Testament. Introducing Old Testament textual criticism. Pretoria: N.G. Kerk Boekhandel.

Elgvin, T. 2008. Sixty years of Qumran research: Implications for Biblical studies. Svenska Exegetiska Sällskapet, 73:1–22.

García Martínez, F. 2012. Parabiblical literature from Qumran and the canonical process. Voordrag by die Somerskool van die Universiteit van Fribourg, Einsiedeln, Duitsland 25–7 Junie 2012.

Gottwald, N.K. 1985. Social matrix and canonical shape. Theology Today, 42(3):307–21.

Heard, R.C. 2004. The scope of the Old Testament canon. Leaven 12(1), Article 4. https://digitalcommons.pepperdine.edu/cgi/viewcontent.cgi?article=1358&context=leaven (2 Maart 2020 geraadpleeg).

Lim T.H. 2013. A theory of the majority canon. https://journals.sagepub.com/doi/10.1177/0014524612469332 (3 Januarie 2013 geraadpleeg).

May, J.L., D.L. Petersen en K.H. Richards (reds.). 1995. Old Testament interpretation: Past, present, and the future. Nashville, TN: Abingdon.

McDonald, L.M. en J.A. Sanders (reds.). 2002. The canon debate. Grand Rapids, MI: Baker Academic.

Nederlandse Geloofsbelydenis. S.j. http://www.cjbf.co.za/belydenisse/afrikaans/ngb.html (25 Februarie 2020 geraadpleeg). 

Parry, D.W., S.D. Ricks en A.C. Skinner (reds.). 2017. The prophetic voice at Qumran. The Leonardo Museum conference on the Dead Sea Scrolls, 11–12 April 2014. Studies on the Texts of the Desert of Judah, 120.

Philo. S.j. https://en.wikipedia.org/wiki/Philo (28 Maart 2020 geraadpleeg).

Ricciuto, M. 2006. English translations of the Roman Catholic bible. http://homes.chass.utoronto.ca/~cpercy/courses/6362-ricciuto.htm (18 Februarie 2020 geraadpleeg).

Root, M.M. Luther on canon and apocrypha. https://www.academia.edu/28481068/martin_luther_on_canon_and_apocrypha (1 April 2020 geraadpleeg).

Sakenfeld, K.D. (red.). 2007. The New Interpreter’s Bible, Deel 1, Nashville, TN: Abingdon Press.

Sanders, J.A. 1979. Text and canon: Concepts and method of author(s): Reviewed work(s). Journal of Biblical Literature, 98(1):5–29.

—. 1995. Scripture as canon for post-modern times. Biblical Theology Bulletin, 25(2):56–63.

Stordalen, T. 2001. Law or prophecy? On the order of the canonical books. In Stordalenen en Skarsaune (reds.). 2001.

Stordalen, T. en O. Skarsaune (reds.). 2001. Arvid Tångberg in memoriam. Tidsskrift for Teologi og Kirke, 12. https://www.academia.edu/4094127 (2 April 2020 geraadpleeg).

Thomassen, E. 2010. Some notes on the development of Christian ideas about a canon. In Thomassen (red.) 2010.

Thomassen, E. (red.). 2010. Canon and canonicity. The formation and use of Scripture. Copenhagen: Museum Tuscalanum Press. 

Tov, E. S.j. The essence and history of the Masoretic text. https://catholicstudiesacademy.com/wp-content/uploads/2018/05/Emanuel-Tov-The-Essence-and-History-of-the-Masoretic-Text.pdf (27 Maart 2020 geraadpleeg). 

—. 1992. Textual criticism of the Bible. Van Gorcum: Fortress Press.

—. 2017. Were early Hebrew scripture texts authoritative? In Parry, Ricks en Skinner (reds.) 2017. 

Ulrich, E. 2002. The notion and definition of canon. In McDonald en Sanders (reds). 2002.

VanderKam, J.C. 2012. The Dead Sea Scrolls and the Bible. Grand Rapids, MI: William B Eerdmans.

Wendland , E.J. 2017. How we got the Bible: Overview of aspects of the scripture transmission process. Version 2.6. Compiled by Ernst R. Wendland-Lusaka Lutheran Seminary. 29 Augustus 2017. https://www.academia.edu/34054821/how_we_got_the_bible_Overview_of_aspects_of_the_scripture_transmission_process (31 Maart 2020 geraadpleeg).

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Wat hou dit in dat die Bybel ’n kanon is?  appeared first on LitNet.

Ouers se motivering om gestruktureerde spel bo ongestruktureerde spel te verkies tydens die voorskoolse ontwikkelingstadium

$
0
0

Ouers se motivering om gestruktureerde spel bo ongestruktureerde spel te verkies tydens die voorskoolse ontwikkelingstadium

Yolanda Huijsamer en Issie Jacobs, Navorsingseenheid: Gemeenskap Psigososiale Navorsing (COMPRES), Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)

LitNet Akademies Jaargang 17(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Voorskoolse kinders speel ’n aktiewe rol in hulle eie ontwikkeling deur middel van hulle interaksie met die omgewing wat by wyse van ongestruktureerde spel plaasvind. Ongestruktureerde spel is ’n skeppende uitdrukking van voorskoolse kinders se liggaamlike, kognitiewe, sosiale en emosionele self en skep geleenthede om belangrike vaardighede en waardes aan te leer wat nodig is vir die bemeestering van hulle wêreld. Hierteenoor bied gestruktureerde aktiwiteite aan voorskoolse kinders die geleentheid vir sosiale interaksie, asook ’n geleentheid om te leer hoe om binne spanverband saam te werk en opdragte te volg. Dit wil egter voorkom asof ouers meer gemotiveerd is om hulle voorskoolse kinders by verskillende gestruktureerde aktiwiteite te betrek as om vir hulle geleenthede te skep om aan ongestruktureerde spel blootgestel te word. Hierdie besluit kan daartoe bydra dat daar teen die natuurlike ontwikkeling van voorskoolse kinders beweeg word as gevolg van die feit dat hulle toenemend meer blootstelling aan gestruktureerde aktiwiteite kry. Die implikasie hiervan is dat voorskoolse kinders se bemagtiging van die self beïnvloed word. Die doel van hierdie artikel is om vas te stel wat ouers se motivering is om gestruktureerde spel bo ongestruktureerde spel te plaas tydens die voorskoolse ontwikkelingstadium van hulle kind. ’n Kwalitatiewe beskrywende ontwerp is benut, waar data deur middel van twee fokusgroepbesprekings ingesamel is. Vanuit die data blyk dit dat sekere eksterne faktore deelnemers motiveer om gestruktureerde spel bo ongestruktureerde spel te kies ten einde hulle voorskoolse kinders se ontwikkeling te bevorder. Hierdie resultate maak dit moontlik om aanbevelings te maak aan professionele persone wat ouerleiding aan ouers van voorskoolse kinders bied.

Trefwoorde: eksterne faktore; gestruktureerde spel; motivering; ongestruktureerde spel; ontwikkeling; ouers; voorskoolse kinders

 

Abstract

Parents’ motivation to choose structured play over unstructured play during the pre-school developmental years

Pre-school children play an active role in their own development through their interaction with the environment and by way of unstructured play. Unstructured play is a creative expression of their physical, cognitive, social and emotional self. Unstructured play also creates opportunities to learn important skills and values necessary to master their world. Structured activities on the other hand offer pre-school children social interaction opportunities together with the opportunity to learn how to work in a team and follow certain commands.

Within the context of these two possibilities, parents seem to be more motivated to involve their children in different structured activities than to create opportunities where they can be exposed to unstructured play. This decision may contribute to moving against the natural development of pre-school children as a result of their increasing exposure to structured activities. The implication of this is that pre-school children’s empowerment of the self could be influenced.

The family systems theory by Harwood, Miller and Vasta and the field theory by Yontef guided the study. Family members, within the context of these two theories, are mutually influenced by each other in different ways. Decisions that parents take as the core element within the family system will therefore have significant influence on the development of the pre-school child.

The aim of this article is to establish what motivates parents to choose structured play over unstructured play during the pre-school developmental stage of their child. For this reason, a qualitative descriptive design was employed to purposively select potential participants who met the following inclusion criteria: Participants had to be parents (male or female) of children who were learners from two pre-determined pre-school centres in the Boland; both or only one parent of the family had to be able to participate in the study and participants had to be able to converse in Afrikaans or English. Sixteen (n=16) parents (only mothers) who met the inclusion criteria were selected. The main reason that only mothers participated in the study, according to the participants, was that the fathers worked during the time that the data were collected. The age difference of the participants (21 years to 50 years) is worth noting within the context of the outcomes of the findings.

Ethical clearance to conduct the study was obtained from the North-West University under ethical number NWU-00060-12-A1. After informed consent was obtained from the participants, they were involved in two separate focus group discussions. Each group consisted of eight focus group members. A focus group guide was developed which helped the researchers to obtain a clear picture and a sound knowledge of parents’ motivation to involve their pre-school children in structured activities rather than in unstructured play. Data obtained were thematically analysed through the use of the six steps by Clarke and Braun. 

The following two main themes were identified:

  • Participants’ perceptions of the value of unstructured play, and
  • Participants’ choices regarding unstructured play versus structured play. 

After the data were further analysed specific subthemes and categories were identified under each main theme. The categories of the second subtheme under the second main theme are discussed for the purpose of this article. From these findings it became evident that certain external factors motivate parents to involve their pre-school children in structured activities so as to enhance their development.

The development of self-discipline seems to be one of the main motivations for parents to choose structured activities over unstructured play for the pre-school children. Participants are of the opinion that pre-school children are able to control their behaviour through practising self-discipline which prepares them for the future. Participants are further of the opinion that the logical thinking of pre-school children is enhanced through their involvement in structured activities such as ballet and Kumon. Participants further believe that cognitive development takes place in pre-school children when they are involved in structured activities, as specific input of an adult is needed during structured activities. 

Peer pressure, which possibly borders on disguised mutual competition, is indicated as a further motivation for parents to involve their pre-school children in structured activities. Participants for instance are worried that their pre-school children might fall behind in their development when they do not partake in the different available structured activities. From the empirical data, it also appears that the participants measure the success of their parenting skills based on whether they are doing enough to promote their children’s development. While this sounds like a valid question, the researchers hold the view that this attitude can result in the over-scheduling of pre-school children’s day programmes, which could lead to stress and anxiety.

Unsafe environments are probably one of the main motivations for participants to choose rather to involve their pre-school children in structured activities. Participants feel they always have to supervise their pre-school children’s play activities due to the unsafety of the environments they live in. From the empirical study it seems as if participants lack knowledge with regard to the different ways in which unstructured play can occur and that it does not only have to be outside in nature.

The busy schedules of participants are yet another motivation to involve pre-school children in structured play, rather than unstructured play. It seems to be more convenient for participants to enrol their pre-school children in structured activities and by doing so they also feel less guilty about being too busy to pay attention to the development of their pre-school children. 

The worry of participants that their pre-school children might not be ready to start school, is a further motivation for involving their children in structured activities to enhance their development. Participants attribute this worry to their perceptions of the fast pace at which children are expected to work in school. These perceptions often seem to be unfounded and wrongly based on the opinions of mostly other parents.

Although recognition should be given to the influence that structured activities have on the development of the pre-school child, it is finding a balance between structured and unstructured play which will really contribute to the development of the pre-school child. It is therefore believed that professionals (such as teachers, social workers, educational psychologists, occupational therapists and paediatricians) who assist parents with their pre-school children should have a sound knowledge of early childhood development and the holistic way in which childhood development should be approached. 

Keywords: development; external factors; motivation; parents; pre-school children; structured play; unstructured play

 

1. Inleiding 

Navorsers op ’n multidissiplinêre vlak is dit almal eens dat spel spesifieke voordele vir die ontwikkeling van alle kinders inhou, en meer spesifiek vir die ontwikkeling van die voorskoolse kind (Herrington en Brussoni 2015:477; Rock 2017; Unicef 2018:7). Vanuit ’n ontwikkelingsoogpunt beskou L. Vygotsky soos na verwys in Frost, Reifel en Wortham (2005:121) spel nie bloot as die oorheersende aktiwiteitsvorm van ’n voorskoolse kind nie, maar in ’n mate as die belangrikste bron van ontwikkeling van hierdie ouderdomsgroep. 

Binne die konteks van die vroeë kinderjare word ’n onderskeid tussen gestruktureerde en ongestruktureerde spel getref. Volgens Chudacoff (2007:2) stel gestruktureerde aktiwiteite voorskoolse kinders bloot aan ervaringe waar reëls nie self deur die voorskoolse kinders vasgestel word nie en waarby volwassenes betrokke is (Herrington en Brussoni 2015:477; Milteer en Ginsburg 2012:e205). Voorbeelde van gestruktureerde aktiwiteite waarby voorskoolse kinders betrokke is behels onder meer aktiwiteite soos gimnastiek, Playball, Monkeynastix, drama, moderne danse, Experimaatjies, ballet, afrondingsklasse, stoei, karate, musiek en kuns. Ongestruktureerde spel word deur Dowling (2005:51), Milteer en Ginsburg (2012:e205), Santer, Goodall en Griffiths (2007:xi) en Truelove, Vanderloo en Tucker (2017:164) omskryf as speelaktiwiteite wat plaasvind wanneer voorskoolse kinders kies wat hulle wil doen, hoe hulle dit wil doen en wanneer hulle spel wil staak en ’n ander speelaktiwiteit wil probeer. Ongestruktureerde spel, byvoorbeeld simboliese spel of fantasiespel soos onder meer om huis-huis te speel, het geen eksterne doelwitte wat deur volwassenes vasgestel word nie en hoewel volwassenes gewoonlik die omgewing en hulpmiddels vir ongestruktureerde spel voorsien, neem voorskoolse kinders self die leiding (Dowling 2005:51; Milteer en Ginsburg, 2012:e205; Santer e.a. 2007:xi; Truelove e.a. 2017:164).

Ongestruktureerde spel is ’n natuurlike element van voorskoolse kinders se ontwikkeling. Dit bied aan voorskoolse kinders die geleentheid om hulle wêreld te verken (Mariam, Sazia Zaman, Yesmin, Huq en Sarwar 2019:112) en daarby aan te pas in ’n veilige en ontspanne omgewing, volgens hulle eie reëls, doelwitte en vlak van intellektuele ontwikkeling (Lillemyr 2009:5; Lindon 2001:17; Sunderland 2007:75; Unicef 2018:7). Ongestruktureerde spel dra ook by tot die ontwikkeling van voorskoolse kinders op kognitiewe, liggaamlike, sosiale en emosionele gebied en speel ’n belangrike rol in die ontwikkeling van kinders se bewustheid van die self (Hughes 2010:6; Singer, Golinkoff, Hirsh-Pasek en Berk 2006:8). 

Ten spyte van die voordele wat ongestruktureerde spel vir die voorskoolse kind inhou, het Johnstone, Hughes, Martin en Reilly (2018:8) in ’n sistematiese studie-oorsig bevind dat daar ’n beperkte hoeveelheid navorsing bestaan oor die benutting van ongestruktureerde spel by kinders. Daarteenoor is verskeie studies gevind wat op die voordele van gestruktureerde spel by kinders fokus (Johnstone e.a. 2018:8). Hierdie bevinding verklaar waarskynlik waarom ouers en professionele persone wat by kinderontwikkeling betrokke is, oningelig blyk te wees oor die noodsaaklikheid daarvan dat voorskoolse kinders aan ewe veel gestruktureerde as ongestruktureerde spel behoort deel te neem. Volgens Palmer, Matsuyama en Robinson (2017:201) beveel die Nasionale Vereniging vir Sport en Liggaamlike Opvoeding in Amerika in hierdie verband aan dat voorskoolse kinders daagliks aan 60 minute van gestruktureerde spel en 60 minute van ongestruktureerde spel moet deelneem.

Ginsburg het reeds in 2007 bevind dat ongestruktureerde spel in die 21ste eeu besig is om jaar na jaar te kwyn (Ginsburg 2007:182). Hierdie bevinding word deur ’n studie wat in 2002 onderneem is, ondersteun (Gleave 2009:2). Indien die tyd hierby gevoeg word wat kinders selfs op voorskoolse vlak aan skermtyd bestee (Luyt 2020; Milteer en Ginsburg 2012:e207; Naidoo 2017), kan aanvaar word dat voorskoolse kinders se deelname aan ongestruktureerde spel waarskynlik nog slegter daaraan toe is.

Veral ouers speel ’n belangrike rol in hierdie verskynsel. Hedendaagse ouers kies al hoe meer gestruktureerde aktiwiteite met die doel om hulle voorskoolse kinders se ontwikkeling te bevorder, ten koste van ongestruktureerde spel. Die gebrek aan balans tussen die hoeveelheid gestruktureerde aktiwiteite en die hoeveelheid geleenthede wat voorskoolse kinders vir ongestruktureerde spel het, het tot hierdie studie gelei.

 

2. Ontwikkelingstadium van die voorskoolse kind

Volgens Erikson se teorie word die vroeë skooljare gekenmerk deur die psigososiale krisis: inisiatief versus skuld. Indien hierdie krisis positief opgelos word, ontwikkel die jong kind ’n sterk gevoel van uniekheid as individu. Inisiatief verwys na ’n aktiewe verkenning en ontdekking deur voorskoolse kinders van die wêreld buite hulleself, wat hoofsaaklik deur spel gedoen word. Berger (soos na verwys in Frost e.a. 2005:122) beskou die vroeë kinderjare, tussen ongeveer twee en ses jaar, as die “speel-jare”. Nie alleen bring jong kinders die grootste gedeelte van hulle dag met speel deur nie, maar hulle ontwikkel terselfdertyd die vaardighede, idees en waardes wat belangrik is vir grootword en die bemeestering van hulle wêreld (De Witt 2009:129). Skuld, daarteenoor, is ’n emosie wat kinders ervaar wanneer hulle besef dat hulle vir onaanvaarbare gedagtes, fantasieë of optredes verantwoordelik is (Berger 2005:39; Harwood, Miller en Vasta 2008:476).

Kinders se ontwikkeling vind binne ’n holistiese konteks plaas en daarom word kinders as “volledige individue” beskou. Die ontwikkeling van kinders behoort dus op enige gegewe tydstip vanuit die komplekse wisselwerking tussen die liggaamlike, kognitiewe en psigo-sosiale ontwikkeling bestudeer te word (Berger 2005:7; Swartz, De la Rey en Duncan 2004:36). Hierdie komplekse wisselwerking beïnvloed voorskoolse kinders se funksionering, wat onder meer verband hou met die ontwikkeling van selfregulering (Bronson 2000:5; Sokol, Muller, Carpendale, Young en Iarocci 2010:287). 

Die motivering vir selfregulering versterk in die voorskoolse ontwikkelingstadium (Bronson 2000:49; Mills en Duck 2000:105) en vind plaas wanneer voorskoolse kinders poog om hulle behoeftes te vervul (McDermott en Fox soos na verwys in Hoyle 2010:91). Volgens Wait, Meyer en Loxton (2005:17) ontstaan daar tydens elke ontwikkelingsfase nuwe behoeftes en sal bemeestering van ontwikkelingstake voorskoolse kinders die geleentheid bied om hierdie nuwe behoeftes te bevredig. Die bemeestering van die ontwikkelingstake bemagtig ook die voorskoolse kind, wat volgens Blom (2004:107) verder tot die versterking van die self bydra. Bemeestering van ontwikkelingstake binne die voorskoolse stadium behels motoriese beheer, die aanleer en verbetering van vaardighede, kognitiewe ontwikkeling, taalontwikkeling, sosialisering, vroeë morele ontwikkeling, ontwikkeling van selfagting, geslagsrolidentifikasie, groepspel en selfbeheersing (B.M. Newman en P. Newman soos na verwys in Wait e.a. 2005:20).

 

3. Die waarde van spel tydens die ontwikkelingstadium van die voorskoolse kind 

Speel is so ’n natuurlike en onlosmaaklike deel van voorskoolse kinders se bestaan dat volwassenes selde daaraan dink as dat dit meer is as net ’n genotvolle ontspanningsaktiwiteit. Landreth (2006:10) beskryf spel as die “[…] singular central activity of childhood, occurring at all times and in all places”. Spel is in der waarheid ’n weerspieëling van die self en bemagtig voorskoolse kinders met ’n mate van onafhanklikheid deurdat dit geleenthede skep om die betekenis van hulle ervarings aan die wêreld te kommunikeer (Attfield en Wood 2005:2; Honoré 2008:49).

Die vermoë van voorskoolse kinders om hulle ervarings aan die wêreld te kommunikeer is volgens Bennet en Sani (2004:31) belangrik en dit help voorskoolse kinders om ’n selfkonsep en selfondersteunende gedrag (Blom 2004:52) te vorm, en dra by tot bemagtiging van die self (Landreth 2006:18). Deur spel kry voorskoolse kinders ook die geleentheid om die individualiteit van hulle persoonlikheid uit te druk (Timberlake en Moore Cutler 2001:3).

Voorskoolse kinders se vermoë om te speel, neem toe in ooreenstemming met hulle ontwikkeling (Kaplan 2000:328; Louw en Louw 2007:197). Die verwantskap en verhouding tussen spel en voorskoolse kinders se ontwikkeling binne die motoriese, kognitiewe, emosionele en sosiale veld behels die volgende:

3.1 Liggaamlike ontwikkeling

Die aansienlike ontwikkeling van basiese motoriese vaardighede, naamlik groot- en fynmotoriese vaardighede, is veral opvallend van die vroeë kinderjare (Berger 2005:224). Liggaamlike aktiwiteitspel wat gepaardgaan met ’n gestoei en deurmekaarspel (Berger 2005:296) is kenmerkend vanaf vierjarige ouderdom en behels speletjies met ’n meer aggressiewe element soos speel-speel baklei, stoei en stamp-en-stoot-speletjies. Behalwe vir die ontwikkeling van groot- en fynmotoriese vaardighede hou hierdie speletjies ook verband met die voorskoolse kind se probleemoplossings- en onderhandelingsvermoëns (Casey 2005:43; Kaplan 2000:330–1; Levine en Munsch 2011:470; Smith, Cowie en Blades 2011:235).

Gestruktureerde spel tydens die voorskoolse ontwikkelingstadium vind veral binne die liggaamlike veld van ontwikkeling plaas. Aktiwiteite wat gerig is op motoriese ontwikkeling, maar wat deur onderwysers of volwassenes gelei word, voorsien wel geleenthede vir liggaamlike ontwikkeling, maar verskil van ongestruktureerde spel deurdat dit nie deur die voorskoolse kind geïnisieer word nie (Frost e.a. 2005:123). Santer, Goodall en Griffiths (2007:xi) sluit hierby aan en merk op dat hoewel volwassenes in ’n sekere mate betrokke kan wees deur die omgewing en hulpmiddels aan hulle kinders beskikbaar te stel, dit onder andere die element van keuse is wat ongestruktureerde spel so waardevol maak.

3.2 Kognitiewe ontwikkeling 

Kognitiewe ontwikkeling binne die voorskoolse ontwikkelingstadium kan waarskynlik die beste verduidelik en verstaan word deur die bril van Piaget se teorie van kognitiewe ontwikkeling. Volgens Piaget se teorie speel voorskoolse kinders ’n aktiewe rol in die ontdekking van hulle eie wêreld (De Witt 2009:13), derhalwe is dit belangrik dat ouers ’n gunstige omgewing daarstel vir voorskoolse kinders om ten beste te ontwikkel (Dowling 2005:29).

Voorskoolse kinders is volgens Piaget se teorie in die pre-operasionele tydperk en hulle ontwikkel tydens hierdie stadium die vermoë tot simboliese denke, verbeelding en die verwerwing van taalvaardighede (Berger 2005:46; Harwood e.a. 2008:30). Simbole (woorde of beelde) word byvoorbeeld deur voorskoolse kinders gebruik om voorwerpe, situasies en gebeurtenisse waarmee hulle te doen kry, voor te stel (Shaffer 1999:239; Woodward en Needham 2009:249). Voorbeelde van hoe voorskoolse kinders simbole gebruik, is volgens Shaffer (1999:240) deur middel van taal, nabootsing, teken en simboliese spel.

Piaget het verskillende vlakke van speel in die kognitiewe veld van ontwikkeling geïdentifiseer waarvan simboliese of fantasiespel op die derde vlak as die hoogtepunt van voorskoolse kinders se speelaktiwiteite beskou word (Berger 2005:297; Harwood e.a. 2008:242). Die meeste vorme van simboliese spel is ’n uitdrukking van alledaagse uitdagings en voorskoolse kinders wat deelneem aan hierdie tipe spel oefen hulle vermoë om ander se perspektief te verstaan, moeilike situasies te bemeester en besluite te neem (Fritz 2011; Ginsburg 2007:183; Kaplan 2000:330). 

Volgens De Witt (2009:131) bied ongestruktureerde spel voorskoolse kinders nie alleen die geleentheid om hulle kommunikasievaardighede te ontwikkel, kennis te verwerf en leerervaringe te integreer nie, maar stel dit hulle ook in staat om ’n positiewe selfkonsep en ’n gevoel van bekwaamheid te ontwikkel.

Gestruktureerde aktiwiteite binne die kognitiewe veld van ontwikkeling bied aan voorskoolse kinders die geleentheid om te leer hoe om binne spanverband saam te werk en instruksies te volg (Frost e.a. 2005:70). Dit is egter duidelik dat verskillende vorme van spel in verskillende ontwikkelingstadiums meer prominent is. Namate kinders skoolgaande ouderdom bereik, is hulle in staat tot meer kognitief-komplekse denke en verstaan hulle speletjies met eenvoudige reëls soos byvoorbeeld aan-aan tot speletjies met meer ingewikkelde reëls soos skoolsport of skaak beter (Fritz 2011). L. Vygotsky se teorie (soos na verwys in Meier en Marais 2007:24 en in Tassoni en Hucker 2005:31) sluit hierby aan en beklemtoon die bydrae wat gestruktureerde aktiwiteite, deur middel van die insette van volwassenes, tot voorskoolse kinders se ontwikkeling kan maak.

3.3 Sosiale ontwikkeling

Sosialisering is die leerproses wat individue in staat stel om te voldoen aan morele standaarde, rolverwagtinge en eise vir aanvaarbare gedrag in ’n betrokke samelewing (Sunderland 2007:73). Nie alleen toon voorskoolse kinders ’n sterk belangstelling in die interaksie met betekenisvolle persone binne hulle omgewing, byvoorbeeld hulle ouers nie, maar voorskoolse kinders raak ook meer bewus van vriendskappe en assosiasie met hulle portuurgroep (Louw en Louw 2007:197).

In die klassieke studie van Mildred Parten (1932) word ongestruktureerde spel in ses fases verdeel. Die fases begin by spelaktiwiteite waar byna geen sosiale interaksie teenwoordig is nie, tot fase ses wat deur intense sosiale interaksie tydens spelaktiwiteite gekenmerk word (M. Parten soos na verwys in De Witt 2009:132; M. Parten soos na verwys in Papalia, Olds en Feldman 2002:276). Fase vyf word onder meer deur geassosieerde spel gekenmerk en vorm deel van drie- en vierjariges se spel en fase ses wat deel vorm van vyf- en sesjariges se spel, word deur samewerkende spel gekenmerk (Kaplan 2000:328).

Deur ongestruktureerde spel ontwikkel kinders se vermoë tot sosiale interaksie deurdat hulle dikwels ’n oplossing vir die een of ander sosiale probleem moet vind, byvoorbeeld:

  • Die keuse aangaande watter speletjie gespeel gaan word,
  • Wanneer spel begin en wanneer dit gestaak gaan word, en
  • Watter reëls tydens die speletjie gevolg gaan word (Burdette en Whitaker 2005:46).

Hierdie sosiale vaardighede is belangrik vir die ontwikkeling van meer komplekse gedrag wat dit vir voorskoolse kinders moontlik maak om binne ’n sosiale omgewing te funksioneer (Burdette en Whitaker 2005:48; Uren en Stagnitti 2009:33). 

Volgens De Witt (2009:132) en Casey (2005:62) bied ongestruktureerde spel ook aan voorskoolse kinders die geleentheid tot interaksie binne ’n groep wat daartoe bydra dat voorskoolse kinders se bewustheid van die self binne die groep ontwikkel; dit stel hulle in staat om vriendskappe te vorm en sodoende ’n positiewe selfkonsep te ontwikkel (Casey 2005:7; Smith e.a. 2011:187).

3.4 Emosionele ontwikkeling

Emosionele ontwikkeling verwys na die proses waartydens individue leer om hulle emosies te erken en te beheer om sodoende op ’n aanvaarbare wyse binne hulle omgewing op te tree (Berger 2005:285; Sunderland 2007:71). Alhoewel voorskoolse kinders se vermoë om hulle emosies in woorde uit te druk volgens Frost e.a. (2005:140) beperk is, bied ongestruktureerde spel juis ’n geleentheid vir emosionele uitdrukking. Dit hou verband met die feit dat speel so natuurlik vir die voorskoolse kind is dat hulle om hierdie rede veilig voel om hulle emosies tydens spel uit te druk (De Witt 2009:132). Dit is dus ’n natuurlike reaksie vir voorskoolse kinders om onaangename situasies en ervarings deur middel van simboliese spel uit te speel om dit sodoende te verwerk en die intensiteit van hulle emosies te verminder (Calkins en Bell 2010:48; Casey 2005:63).

 

4. Ouers se verantwoordelikheid ten opsigte van die keuses van spel vir hulle kind 

Die belangrike rol wat ouers in hulle voorskoolse kinders se ontwikkeling vervul en spesifiek ten opsigte van die keuses wat hulle in dié verband maak, is onbetwisbaar (Van Rensburg en Van Rensburg 2010:15). Die invloed wat ouers as kernelement van die gesinsisteem op voorskoolse kinders se ontwikkeling het, word deur die gesinsisteemteorie (Harwood e.a. 2008:633) en veldteorie (Clarkson 2002:8; Woldt en Toman 2005:26; Yontef 1993:294) ondersteun. Ouers is volgens die gesinsisteemteorie deel van ’n sisteem wat bestaan uit verhoudings wat wedersyds beïnvloed word deur interaksies tussen lede van die sisteem (Harwood e.a. 2008:633). Volgens Yontef (1993:295) beskryf die veldteorie persone as deel van ’n omgewingsveld waarbinne alle dele van die veld ’n invloed op mekaar het. Hierdie omgewingsveld kan uit byvoorbeeld die skool, besigheid, familie of enige individu binne persone se lewensruimte bestaan. Voorskoolse kinders, as deel van die sisteem of veld waarbinne ouers funksioneer, kan daarom slegs verstaan word binne die sisteem van verhoudings waarvan hulle ’n betekenisvolle komponent is (Clarkson 2002:8).

Dit is binne hierdie konteks dat ouers se keuse van spel vir hulle kind ’n betekenisvolle invloed op hulle voorskoolse kind se ontwikkeling het. Kinders ontwikkel holisties vanaf geboorte en hulle moet verstaan word in verhouding tot hulle omgewing, asook die wyse waarop hulle deur hulle omstandighede en die houdings en verhoudings van dié wat hulle versorg, beïnvloed word (De Witt 2009:241).

 

5. Navorsingsmetodologie 

Die navorsingsvraag wat deur hierdie studie beantwoord moes word, is soos volg geformuleer: Wat is ouers se motivering om gestruktureerde spel bo ongestruktureerde spel te plaas tydens die voorskoolse ontwikkelingstadium van hulle kind? ’n Kwalitatiewe beskrywende navorsingsbenadering soos bespreek deur Jiggens Colorafi en Evans (2016), Sandelowski (2000:335–6) en Sandelowski (2010:77, 83) is vir die doel van hierdie studie gebruik. Hierdie benadering vereis dat deelnemers se subjektiewe bewustheid so getrou as moontlik weergegee word, sonder te veel interpretasie van die inligting wat hulle gedeel het. Die resultate wat bespreek word, is dus ’n ware weergawe van die deelnemers se menings.

Die studieveld is deur die navorsingsprobleem bepaal en afgebaken deur aandag te gee aan faktore soos die sigbaarheid van die probleem binne die gemeenskap, sowel as die toeganklikheid en samewerking van deelnemers (soos na verwys in Strydom 2011:332). Die gemeenskap waarna verwys word bestaan uit ouers wat binne die middel- tot hoë sosio-ekonomiese groepering val en toegang tot gestruktureerde aktiwiteite het. Deelnemers is deur middel van doelgerigte steekproefneming (Bradshaw, Atkinson en Doody 2017:3; Creswell en Plano Clark 2011:173─4; Jiggens Colorafi en Evans 2016:18) as ’n tipe nie-waarskynlikheidsteekproefneming (Plowright 2011:42) gekies wat nie die kanse van insluiting van ’n sekere individu kan bepaal nie omdat die grootte van die teikengroep of lede van die teikengroep nie vooraf bekend is nie. Die insluitingskriteria het behels dat:

  • Deelnemers ouers (manlik of vroulik) moes wees van kinders wat leerders van twee voorafbepaalde voorskoolse sentrums in die Boland was,
  • Albei of slegs een ouer van die gesin aan die studie kon deelneem, en
  • Deelnemers Afrikaans of Engels magtig was.

In Tabel 1 word ’n skematiese voorstelling gegee van die deelnemers wat aan die studie deelgeneem het.

Tabel 1. Skematiese voorstelling van biografiese data van deelnemers

Biografiese eienskappe

Frekwensie

Persentasie (N=16)

Geslag

Vroulik

16

100

Manlik

0

0

Totaal

16

100

Ouderdom

21–30

5

31,25

31–40

10

62,50

41–50

1

6,25

Totaal

16

100

Aantal kinders

1

5

31,25

2

8

50

3

2

12,50

4

1

6,25

Totaal

16

100

 

Sestien ouers (slegs ma’s) het aan die studie deelgeneem. Die hoofsaaklike rede hiervoor, soos deur die deelnemers aangevoer, is die feit dat die pa’s ten tye van data-insameling gewerk het. Die ouderdomsgaping van die deelnemers (21 jaar tot 50 jaar) is volgens die navorsers opvallend ten opsigte van die uitkoms van die studie. 

5.1 Prosedure en etiese aspekte

Voordat die navorsingsproses begin is, het die navorsers etiese goedkeuring by Noordwes-Universiteit verkry. Etieknommer NWU-00060-12-A1 is vir dié doeleindes aan hierdie studie toegeken. 

Ouers is met behulp van onderwysers by twee voorafbepaalde voorskoolse sentrums in die Boland oor die studie ingelig. Ingeligtetoestemmingsbriewe is na afloop van die inligtingsessie per hand aan potensiële deelnemers oorhandig. Deur middel van die ingeligtetoestemmingsbriewe kon potensiële deelnemers ’n ingeligte besluit neem of hulle aan die studie wou deelneem of nie. Deelnemers wat bereid was om aan die studie deel te neem, is gevra om met die navorser te skakel wat verdere reëlings ten opsigte van die fokusgroepbespreking met elke deelnemer getref het.

Aspekte wat onder meer in die ingeligtetoestemmingsdokument vervat is het die volgende ingesluit: 

  • Inligting aangaande die agtergrond, motivering en doel van die studie is gegee.
  • Vrywillige deelname aan die studie is verduidelik.
  • Deelnemers se inligting sou vertroulik hanteer word deurdat kodes aan elke deelnemer toegeken sou word.
  • Deelnemers kon hulleself enige tyd aan die studie onttrek met die versekering dat hulle nie kwalik geneem sou word nie en dat geen inligting wat hulle tot op daardie stadium gedeel het, in die studie gebruik sou word nie. 

Die lokaal waar die fokusgroepbesprekings plaasgevind het, was maklik toeganklik vir die deelnemers. Ten einde hulle privaatheid te beskerm, is ’n “Moenie-steur-nie”-nota teen die deur aangebring. Aangesien data in die vorm van fokusgroepbesprekings ingesamel is, en dit daarom nie moontlik was om die vertroulikheid van die deelnemers volledig te verseker nie, is elke deelnemer versoek om ’n dokument van vertroulikheid te onderteken waarin hulle onderneem het om alle inligting vertroulik te hanteer. Enige moontlike vrae en onsekerheid aan die kant van die deelnemers oor hulle deelname aan die studie is voor die aanvang van die fokusgroepbesprekings ook dadelik en so volledig moontlik deur die navorsers beantwoord.

5.2 Data-insameling 

Empiriese data is deur middel van twee fokusgroepbesprekings ingesamel. Elke groep het uit agt fokusgroeplede bestaan waarvan die groeplede deur middel van ’n natuurlike seleksie verteenwoordigend was van ’n ouerpaar. Fokusgroepbesprekings word deur Sarantakos (2013:207) beskryf as forums wat groepbesprekings fasiliteer, geleenthede vir dinkskrums skep waartydens verskillende oplossings vir moontlike probleme gevind kan word en as ’n meganisme waartydens deelnemers bepaalde menings kan vorm (Nieuwenhuis 2007:90–1). Hierby voeg Babbie en Mouton (2001:292) dat fokusgroepbesprekings geleentheid skep om toegang tot sekere inligting te kry wat andersins vir navorsers ontoeganklik sou wees. ’n Fokusgroepbesprekingsgids het die navorsers in staat gestel om ’n duidelike beeld en omvattende kennis te verkry van ouers se motivering om gestruktureerde spel bo ongestruktureerde spel vir hulle voorskoolse kinders te kies. 

5.3 Data-ontleding 

Die ingesamelde data is volgens Braun en Clarke (2013:87–93) se ses stappe tematies ontleed (Sundler, Lindberg, Nilsson en Palmér 2019:735–7; Vaismoradi, Turunen en Bondas 2013:400). Hierdie ses stappe is kronologies gevolg en het die volgende behels:

  • Die navorsers het hulleself aanvanklik van die data vergewis deur die data te organiseer en vir data-ontleding voor te berei.
  • Data is hierna verskeie kere deurgelees en aanvanklike kodes is geskep.
  • Met verdere verfyning van die kodes is aanvanklike temas geïdentifiseer.
  • Temas is verder verfyn om bepaalde subtemas en kategorieë te identifiseer.
  • Die subtemas en kategorieë is verder verfyn en benoem.
  • Na afloop van die data-ontleding is die bevindinge in ’n navorsingsverslag aangebied. 

Twee hooftemas is vanuit die data geïdentifiseer naamlik:

  • Deelnemers se persepsie van die waarde van ongestruktureerde spel.
  • Deelnemers se keuses ten opsigte van ongestruktureerde spel teenoor gestruktureerde spel. 

Na verdere ontleding is bepaalde subtemas en kategorieë onder elke hooftema geïdentifiseer. 

Vir die doel van hierdie artikel word die kategorieë van die tweede subtema van hooftema twee bespreek.

5.4 Vertrouenswaardigheid van die ondersoek

Vir die doel van hierdie studie is die volgende aspekte van Lincoln en Guba se konstrukte vir die geldigheid van data in ag geneem, naamlik geloofwaardigheid, oordraagbaarheid en bevestigbaarheid (soos na verwys in Schurink, Fouché en De Vos 2011:419–21). Binne die konteks van die studie het die konstrukte die volgende behels:

  • Geloofwaardigheid verwys na die navorser wat alles moontlik sal doen om te verseker dat die aanbieding van die studie ’n ware weerspieëling van die ondersoek is (Lincoln en Guba soos na verwys in Schurink e.a. 2011:419). Sodoende word die egtheid van die data verseker (O’Donoghue 2007:99; Shenton 2004:63). Binne die konteks van die studie is geloofwaardigheid van die studie bereik deur al die data wat tydens die fokusgroepbesprekings ingesamel is met bestaande literatuur te kontroleer. Geloofwaardigheid is verder verseker deurdat die weergee van die deelnemers se menings ’n ware weergawe is van wat die deelnemers gedeel het en die aanbieding van die data bevestig voorts die geloofwaardigheid daarvan.
  • Oordraagbaarheid kan omskryf word as die navorser se keuse om die toepaslikheid van die studie binne verskillende kontekste te bepaal (Lincoln en Guba soos na verwys in Schurink e.a. 2011:420; Shenton 2004:69). Die navorsers het tydens hierdie ondersoek ’n omvattende beskrywing van deelnemers se motivering gegee om tydens die voorskoolse ontwikkelingstadium van hulle kind gestruktureerde spel bo ongestruktureerde spel te plaas. Voorts is die studie binne die gesinsisteemteorie (Harwood e.a. 2008:633) en veldteorie (Woldt en Toman 2005:26) as teoretiese raamwerk geplaas. O’Donoghue (2007:100) en Schurink e.a. (2011:420) beskou die diepgaande beskrywing en plasing van ’n studie binne ’n teoretiese raamwerk (O’Donoghue 2007:100; Schurink e.a. 2011:420) as ’n strategie wat navorsers kan volg om die oordraagbaarheid van die studie te verhoog.
  • Bevestigbaarheid verwys na bevindinge wat deur ander bronne en metodes bevestig moet word (Lincoln en Guba soos na verwys in Schurink e.a. 2011:421). Deelnemers se reaksies is met bestaande literatuur gekontroleer om sodoende te verseker dat die bevindinge ’n ware weergawe van die ingesamelde data is.

 

6. Bevindinge 

Spel word deur Landreth (2006:10) as die “[…] singular central activity of childhood, occurring at all times and in all places” beskryf. Voorskoolse kinders kry die geleentheid om deur middel van spel die individualiteit van hulle persoonlikheid uit te druk (Timberlake en Moore Cutler 2001:3) en spel verteenwoordig ’n weerspieëling van hulle innerlike wêreld (Landreth 2006:12). Die vermoë van voorskoolse kinders om hulle ervarings aan die wêreld te kommunikeer is volgens Bennet en Sani (2004:31) belangrik vir die vorming van ’n selfkonsep, selfondersteunende gedrag (Blom 2004:52) en selfbemagtiging (Landreth 2006:18). Dit is dus duidelik dat spel geleenthede vir voorskoolse kinders skep om die betekenis van hulle ervarings aan die wêreld te kommunikeer.

Die waarde van gestruktureerde spel vir voorskoolse kinders se ontwikkeling kan nie buite rekening gelaat word nie, asook die rol wat ander betekenisvolle persone by die ontwikkeling van voorskoolse kinders speel. Dit blyk vanuit die empiriese bespreking dat daar veral sekere aspekte is wat deelnemers motiveer om gestruktureerde spel te kies ten einde hulle voorskoolse kinders se ontwikkeling te stimuleer. Een van die redes wat as motivering dien hou verband met die waarde wat gestruktureerde spel volgens deelnemers toevoeg tot hulle voorskoolse kinders se kognitiewe veld van ontwikkeling, onder meer om selfdissipline en logiese denke te ontwikkel.

Wat egter meer opvallend was, is die feit dat deelnemers veral eksterne faktore as motivering aanbied waarom hulle hulle voorskoolse kinders eerder aan gestruktureerde spel as ongestruktureerde spel blootstel. Deelnemers blyk ook van mening te wees dat hulle geen beheer oor die eksterne faktore het nie. Die deelnemers se motivering om hulle kinders aan gestruktureerde spel bloot te stel word vervolgens aan die hand van die volgende kategorieë bespreek: ontwikkeling van selfdissipline, ontwikkeling van kognitiewe vaardighede, groepsdruk, onveilige omgewing, gejaagdheid van die samelewing en ouers se kommer ten opsigte van die skoolgereedheid van hulle voorskoolse kind.

6.1 Ontwikkel selfdissipline

Die ontwikkeling van kognitiewe vaardighede blyk veral ’n gewilde motivering by die deelnemers te wees om hulle voorskoolse kinders aan gestruktureerde spel bloot te stel. Deelnemers beskou gestruktureerde spel as ’n tipe speelaktiwiteit wat genotvol is vir voorskoolse kinders, maar waar daar definitiewe insette deur ’n volwassene gemaak word ten einde ’n kognitiewe vaardigheid aan te leer. Vygotsky se teorie (soos na verwys in Meier en Marais 2007:24 en ook in Tassoni en Hucker 2005:31) ondersteun deelnemers se mening dat gestruktureerde aktiwiteite deur middel van die insette van volwassenes ’n bydrae tot die ontwikkeling van hulle voorskoolse kinders se kognitiewe vaardighede kan maak. 

Dit blyk uit die empiriese data dat deelnemers van mening is dat gestruktureerde aktiwiteite onder andere hulle voorskoolse kinders se selfdissipline ontwikkel. Selfdissipline, volgens deelnemers, leer hulle voorskoolse kinders om hulle eie gedrag te beheer en berei hulle vir die toekoms voor. Hierdie argument word ook deur Tassoni en Hucker (2005:4) ondersteun wat gestruktureerde spel as ’n wyse sien waarop voorskoolse kinders vir die toekoms voorberei kan word. In hierdie verband het een van die deelnemers opgemerk dat haar voorskoolse kind ballet neem en volgens die deelnemer ontwikkel die insette wat plaasvind tydens hierdie gestruktureerde aktiwiteit ’n spesifieke vaardigheid, naamlik selfdissipline.

Die ontwikkeling van logiese denke blyk ook vanuit empiriese data as motivering te dien vir deelnemers om hulle voorskoolse kinders aan gestruktureerde aktiwiteite bloot te stel. In hierdie verband het een van die deelnemers aangedui dat sy juis haar voorskoolse kind aan Kumon blootstel, ’n gestruktureerde aktiwiteit wat wiskundige vaardighede ontwikkel.

6.2 Groepsdruk 

Dit wil voorkom asof ouers se keuses om hulle voorskoolse kind aan gestruktureerde spel bloot te stel tot ’n groot mate toegeskryf sou kon word aan verbloemde onderlinge kompetisie tussen ouers wat tot uitdrukking kom in groepsdruk. In hierdie verband merk een van die deelnemers op dat ouers “[…]na mekaar [kyk] en as daar een kind is wat aan alles deelneem voel jy by jouself of jy jou kind dieselfde geleenthede bied […]” en dat “[…] ek skuldig [voel] wanneer ek sien aan hoeveel aktiwiteite ander kinders deelneem en dan wonder ek of my kind gaan agter raak in sy ontwikkeling”. Die uiteinde hiervan is dat ouers begin twyfel of hulle genoeg doen om hulle kind se ontwikkeling behoorlik te stimuleer. ’n Deelnemer merk die volgende ten opsigte hiervan op: “Dit is mos maar moeilik. ’n Mens wil mos ook hê jou kind moet presteer en wanneer los jy hom en wanneer laat jy hom deelneem aan ekstra aktiwiteite? Ons wil mos maar almal net die beste vir ons kinders hê.”

Groepsdruk kom volgens Elkind (2007:64) veral die meeste onder ouers voor gedurende hulle kinders se voorskoolse jare en ouers is veral bekommerd dat die samelewing hulle ouerskap en kinders sal veroordeel as voorskoolse kinders nie aan verskillende gestruktureerde aktiwiteite deelneem nie. In ’n studie wat in 2007 deur Ginsburg onderneem is, is bevind dat “[…] some worry they will not be acting as proper parents if they do not participate in this hurried lifestyle” (Ginsburg 2007:185). 

Vanuit die empiriese data wil dit ook voorkom asof die deelnemers die sukses van hulle ouerskapsvaardighede meet aan die hand van die vraag of hulle genoeg doen om hulle kinders se ontwikkeling te bevorder. Hoewel dit na ’n geldige vraag klink, huldig die navorsers die standpunt dat hierdie ingesteldheid die oorskedulering van voorskoolse kinders se dagprogramme tot gevolg kan hê, wat tot spanning en angs kan lei. 

6.3 Onveilige omgewing

Vanuit die empiriese bespreking was dit duidelik dat deelnemers se menings dat hulle in ’n onveilige omgewing bly, ’n belangrike rol in hulle keuse gespeel het om hulle voorskoolse kinders aan gestruktureerde aktiwiteite te laat deelneem eerder as ongestruktureerde aktiwiteite. Een van die deelnemers was van mening dat “[…] dit onveilig is vir my kinders om selfs oor die pad te hardloop om by ’n maatjie te gaan speel […] voel vir my ek moet altyd toesig hou […]”. ’n Ander deelnemer het opgemerk dat haar mening oor die onveilige omgewing waar hulle bly, tot gevolg het dat sy nie haar voorskoolse kinders toelaat om alleen in die parkie agter hulle huis te speel nie. 

Volgens Dowling (2005:148), Ginsburg (2007:185) en Milteer en Ginsburg (2012:e207) word omgewingsgevare as een van die faktore aangedui waarom daar ’n afname in die blootstelling aan ongestruktureerde aktiwiteite is. Dit wil egter vanuit die empiriese data blyk dat daar ’n leemte aan kennis by deelnemers bestaan ten opsigte van die verskillende wyses waarop ongestruktureerde spel kan plaasvind. Een daarvan blyk deelnemers se mening te wees dat ongestruktureerde spel slegs in die natuur kan plaasvind. Voorskoolse kinders se motoriese ontwikkeling kan op eenvoudige wyses deur middel van ongestruktureerde spel gestimuleer word. Voorbeelde hiervan wat deur Pieterse (2001:59) genoem word, is aktiwiteite soos verskillende springspeletjies (eenbeentjie, hinkspel, klippie-hink) of binnenshuise hindernisroetes (Drake 2003:10–1), om maar enkeles te noem.

6.4 Gejaagdheid van die samelewing

Tydens die empiriese bespreking het een van die deelnemers genoem: “[…] vir my is addisionele gestruktureerde aktiwiteite onnatuurlik, want kinders weet hoe om hulleself te leer wat hulle moet weet”. Die realiteit vir hierdie deelnemer is egter “[…] dat die lewe so gejaagd [is] dat daar net nie meer tyd is vir ons kinders om in die natuur te speel nie”. Dit wil vanuit die data blyk dat die gejaagdheid van die samelewing deelnemers voor ’n keuse te staan bring of hulle gestruktureerde aktiwiteite moet kies as ’n wyse waarop hulle hulle voorskoolse kinders se ontwikkeling kan stimuleer, aangesien gestruktureerde aktiwiteite geriefliker is. Een van die deelnemers het die volgende op laasgenoemde stelling gesê: “[…] dit is makliker om sommer my kind by ’n aktiwiteit in te skakel wat by die skool aangebied word, want dit is geriefliker”.

In hierdie verband merk Quist (2007) op dat hedendaagse voorskoolse kinders se program so besig geraak het omdat hulle ouers se program besig is en dat ouers se besige skedule nie tyd toelaat om gehaltetyd met hulle voorskoolse kinders deur te bring nie. Hierdie standpunt word deur die gesinsisteemteorie (Harwood e.a. 2008:633) en veldteorie (Clarkson 2002:8; Woldt en Toman 2005:26; Yontef 1993:295) ondersteun wat illustreer dat dele van die sisteem mekaar beïnvloed. Binne die konteks van hierdie studie gesien, beïnvloed deelnemers se besige programme hulle voorskoolse kinders se ontwikkeling aangesien deelnemers se besige programme daartoe aanleiding gee dat hulle eerder gestruktureerde aktiwiteite kies om hulle voorskoolse kinders se ontwikkeling te stimuleer.

In dié verband glo deelnemers ook dat hulle keuse ten gunste van gestruktureerde aktiwiteite hulle skuldgevoelens ten opsigte van hulle voorskoolse kinders se ontwikkeling sal verlig. Die volgende opmerking som die deelnemers se argument ten opsigte van die implementering van gestruktureerde spel baie goed op: “Dit [gestruktureerde aktiwiteite] kan in ’n mate jou gewete sus. Dit is om soos ’n multi-vitamienpil te sluk as jy nie gesond eet nie. Jy dink jy doen in elk geval goed.” 

6.5 Kommer ten opsigte van skoolgereedheid 

Deelnemers dui deur die bank aan dat hulle meestal uit kommer oor die feit dat hulle voorskoolse kinders nie vir skool gereed gaan wees nie, gestruktureerde aktiwiteite kies om hulle kinders se ontwikkeling te bevorder. Deelnemers skryf hierdie bekommernis toe aan hulle gewaarwording dat die pas waarteen skoolgaande kinders binne die huidige skoolsisteem moet werk baie vinnig is. In dié verband het een deelnemer opgemerk dat indien hulle voorskoolse kind “[…] nie goed is met wat hy moet doen nie, val hy uit die bus en dan word hy gelabel.” 

Die navorsers is van mening dat deelnemers se kommer oor die skoolgereedheid van hulle kind die deelnemers moontlik magteloos kan laat voel en hulle keuse beïnvloed om gestruktureerde aktiwiteite te kies ten einde hulle voorskoolse kinders se ontwikkeling te bevorder. Dit wil voorkom asof hierdie bekommernis meestal ongegrond is en dikwels op die menings van ander ouers gebaseer word. Een van die deelnemers het in hierdie verband genoem: “[…] ek het ’n groot vrees vir Graad 1 as gevolg van hoe die mense daaroor praat. Almal sê my kind gaan dit nie maak nie, want daar word al klaar soveel van Graad 1-kinders verwag soos dat die huiswerk baie is.” 

Die navorsers neem kennis van deelnemers se bekommernis ten opsigte van die skoolgereedheid van hulle kinders as motivering om hulle aan gestruktureerde spel bloot te stel, maar meen dat ongestruktureerde spel ook geleenthede bied om kinders in ’n groot mate vir skool voor te berei. Navorsing het in hierdie verband bewys dat die verskillende tipes spel wat kenmerkend is van die voorskoolse stadium, naamlik simboliese of fantasiespel en groepspel asook om te stoei en deurmekaar te speel, genoeg geleenthede vir voorskoolse kinders bied om op ’n geïntegreerde wyse (sosiaal, kognitief en kreatief) vir formele skoolonderrig voorberei te word (Ferrera, Hirsh-Pasek, Newcombe, Golinkoff en Lam 2011; Pellegrini en Nathan 2011; Trawick-Smith en Dziurgot 2011). 

Dit wil dus voorkom dat voorskoolse kinders skoolgereedheid op ’n geïntegreerde wyse kan bereik deur ongestruktureerde spel wat binne die verskillende vlakke van ontwikkeling plaasvind, en dat skoolgereedheid nie noodwendig deur gestruktureerde spel alleen bereik word nie.

 

7. Bespreking 

Deelnemers beskou gestruktureerde spel as ’n tipe speelaktitwiteit wat genotvol is vir voorskoolse kinders, maar waar daar definitiewe insette deur ’n volwassene gemaak word ten einde ’n kognitiewe vaardigheid aan te leer. Dit verklaar moontlik waarom die aanleer van kognitiewe vaardighede as motivering om hulle voorskoolse kinders aan gestruktureerde spel bloot te stel, een van die vername motiverings by die deelnemers blyk te wees. 

Ter aansluiting hierby kies deelnemers ook gestruktureerde spel vir die rol wat dit speel in die ontwikkeling van logiese denke en selfdissipline by voorskoolse kinders. Die deelnemers is onder meer van mening dat selfdissipline hulle voorskoolse kinders leer om hulle eie gedrag te beheer en hulle vir die toekoms voorberei.

Groepsdruk kom volgens Elkind (2007:64) veral die meeste onder ouers voor gedurende hulle kinders se voorskoolse jare en ouers is veral bekommerd dat die samelewing hulle ouerskap en kinders sal veroordeel as voorskoolse kinders nie aan verskillende gestruktureerde aktiwiteite deelneem nie. Vanuit die empiriese data wil dit ook voorkom asof die deelnemers die sukses van hulle ouerskapsvaardighede meet aan die hand van die vraag of hulle genoeg doen om hulle kinders se ontwikkeling te bevorder. Hoewel dit na ’n geldige vraag klink, meen die navorsers dat hierdie ingesteldheid die oorskedulering van voorskoolse kinders se dagprogramme tot gevolg kan hê, wat tot spanning en angs by beide die ouers en die voorskoolse kind kan lei. 

Die deelnemers se menings dat die omgewings waar hulle woon onveilige ruimtes geword het, blyk ’n belangrike rol in hulle motivering te speel om hulle voorskoolse kinders aan gestruktureerde aktiwiteite eerder as ongestruktureerde aktiwiteite te laat deelneem. Onveilige omgewingsfaktore word spesifiek deur Dowling (2005:148) en Ginsburg (2007:185) uitgelig as een van die vernaamste faktore waarom daar ’n afname is in die blootstelling van kinders aan ongestruktureerde aktiwiteite. 

Die uitgangspunt van ouers dat dit veiliger is om binne te speel eerder as buite word deur Tremblay, Gray, Babcock, Barnes, Bradstreet, […] en Brussoni (2015:6478) as misleidend gesien binne die konteks van die baie gevare wat blootstelling aan die internet vir kinders tot gevolg kan hê. Ouers se oplossings vir die onveilige omgewingsfaktore realiseer meermale daarin om vir hulle kinders toestemming te gee om op die rekenaar of slimfone te speel. Dit wil voorkom asof die deelnemers ’n kennisleemte het met betrekking tot die verskillende wyses waarop ongestruktureerde spel kan plaasvind. Die deelnemers blyk onder meer van mening te wees dat ongestruktureerde spel slegs in die natuur kan plaasvind. 

Empiriese data het ook aan die lig gebring dat die gejaagdheid van die samelewing deelnemers voor ’n keuse te staan bring ten opsigte van gestruktureerde aktiwiteite as ’n wyse waarop hulle hulle voorskoolse kinders se ontwikkeling kan stimuleer, aangesien gestruktureerde aktiwiteite geriefliker is. In hierdie verband merk Quist (2007) op dat hedendaagse voorskoolse kinders se program so besig geraak het omdat hulle ouers se program besig is en dat ouers se besige skedule nie tyd toelaat om gehaltetyd met hulle voorskoolse kinders deur te bring nie. Met verwysing na die gesinsisteemteorie (Harwood e.a. 2008:633) en veldteorie (Clarkson 2002:8; Woldt en Toman 2005:26; Yontef 1993:295) beïnvloed deelnemers se besige programme, binne die konteks van die studie gesien, hulle voorskoolse kinders se ontwikkeling. Deelnemers se besige programme gee daartoe aanleiding dat hulle eerder gestruktureerde aktiwiteite kies om hulle voorskoolse kinders se ontwikkeling te stimuleer. In dié verband glo deelnemers ook dat hulle keuse ten gunste van gestruktureerde aktiwiteite hulle skuldgevoelens ten opsigte van hulle voorskoolse kinders se ontwikkeling sal verlig.

Deelnemers het deur die bank aangedui dat hulle meestal uit kommer dat hulle voorskoolse kinders nie gereed gaan wees vir skool nie, gestruktureerde aktiwiteite kies om hulle kinders se ontwikkeling te bevorder. Deelnemers skryf hierdie bekommernis toe aan hulle gewaarwording dat die pas waarteen skoolgaande kinders binne die huidige skoolsisteem moet werk baie vinnig is. Dit wil egter voorkom asof ouers nie genoegsaam kennis dra van die waardevolle bydrae wat verskillende tipes spel wat kenmerkend is van die voorskoolse stadium, naamlik ’n gestoeiery en deurmekaarspel, simboliese of fantasiespel en groepspel (Rock 2017), maak om kinders op ’n geïntegreerde wyse vir formele skoolonderrig voor te berei nie. Dit is duidelik dat ouers se bekommernis, hulle moontlike wanvoorstelling en gebrekkige kennis die bepalende dryfveer is in hulle keuse om hulle kinders aan meer gestruktureerde spel bloot te stel.

 

8. Implikasies van die bevindinge

Hoewel deelnemers besef dat ongestruktureerde spel ’n waardevolle bydrae tot hulle voorskoolse kinders se ontwikkeling lewer, word dit nie genoegsaam binne voorskoolse kinders se wêreld toegepas nie. Dit blyk dus dat gestruktureerde spel as troos dien en aan ouers die gemoedsrus gee dat hulle wel hulle verantwoordelikheid nakom deur aandag aan hulle voorskoolse kinders se ontwikkeling te skenk.

Die implikasie hiervan is egter dat voorskoolse kinders van sekere geleenthede ontneem word deurdat hulle nie aan ongestruktureerde spel blootgestel word nie. Min blootstelling aan ongestruktureerde spel het onder meer tot gevolg dat geleenthede vir selfregulering vir voorskoolse kinders verlore gaan. Selfregulering stel voorskoolse kinders in staat om goeie kontak te maak met hulle omgewing en holisties te ontwikkel. Hiermee word nie geïmpliseer dat gestruktureerde spel nie ook bydra tot die ontwikkeling van selfreguleringsvaardighede nie. Die geleentheid vir die natuurlike ontwikkeling van selfregulering is net meer moontlik met ongestruktureerde spel. 

’n Toename in die voorkoms van vetsug by kinders (insluitend voorskoolse kinders) word as ’n verdere implikasie gesien van die feit dat kinders aan meer gestruktureerde spel as ongestruktureerde spel blootgestel word (Tremblay e.a. 2015:6477).

 

9. Beperkinge van die studie 

Die belangrikste beperking van die studie is die feit dat ander sosio-ekonomiese groeperings en kulture se intellektuele kennis ten opsigte van ongestruktureerde en gestruktureerde spel nie in ag geneem is nie.

’n Verdere beperking is dat slegs ma’s aan die studie deelgeneem het. Die inligting wat weergegee is, kan dus nie as verteenwoordigend gesien word van ’n ouerpaar se motivering om hulle voorskoolse kind aan gestruktureerde of ongestruktureerde spel bloot te stel nie.

 

10. Gevolgtrekking

Hoewel erkenning gegee moet word aan die waardevolle bydrae van gestruktureerde spel tot voorskoolse kinders se ontwikkeling, is dit die balans tussen ongestruktureerde en gestruktureerde spel wat die grootste impak op voorskoolse kinders se ontwikkeling kan hê. Omdat voorskoolse kinders ongestruktureerde spel met vryheid, onafhanklikheid en keuses assosieer, ontneem ouers hulle kinders die reg om die wêreld te verstaan en herinneringe te skep wat help om hulle menswees te vorm wanneer ouers hulle voorskoolse kinders van ongestruktureerde spel ontneem (Miller, Tichota en White 2009).

Die navorsers huldig die standpunt dat professionele persone wat ouers van voorskoolse kinders bystaan (byvoorbeeld onderwysers, maatskaplike werkers, opvoedkundige sielkundiges, arbeidsterapeute en pediaters) ’n grondige kennis van vroeëkinderontwikkeling behoort te hê asook van die holistiese perspektief waaruit daar na kinderontwikkeling gekyk moet word. Hierdie mening word deur Gill (2014:19) ondersteun wanneer hy aandui dat “[…] practitioners and policy makers need to focus not only on structured, educational interventions, but also on initiatives that allow for more open-ended, child-directed and playful experiences in natural environments.” Binne die konteks hiervan behoort hierdie professionele persone as die beste kanaal beskou te word waardeur bewusmaking kan plaasvind oor die waarde van ongestruktureerde spel tydens die ontwikkeling van die voorskoolse kind (Tremblay e.a. 2015:6477).

Die Kanadese Openbare Gesondheidsvereniging (CPHA) (2019:3–4) voel so sterk oor die voordele wat ongestruktureerde spel vir kinders se ontwikkeling inhou, dat ’n beleid uitgevaardig is wat alle vertakkings van die samelewing verplig om ruimtes en geleenthede te skep waar kinders tydens alle seisoene aan ongestruktureerde spel kan deelneem. Deel van hierdie beleid is dat navorsing ook gedoen moet word oor die langtermynvoordele van ongestruktureerde spel (CPHA 2019:4). Sover die navorsers se kennis strek, is hierdie beleid van die CPHA baanbrekerswerk en die hoop word uitgespreek dat meer instellings hierdie voorbeeld sal volg.

 

Bibliografie 

Attfield, J. en E. Wood. 2005. Play, learning and the early childhood curriculum. 2de uitgawe. Londen: Sage.

Babbie, E. en J. Mouton. 2001. The practice of social research. Kaapstad: Oxford University Press.

Bennet, M. en F. Sani. 2004. The development of the social self. New York, NY: Psychology Press. 

Berger, K.S. 2005. The developing person through childhood. 4de uitgawe. New York, NY: Worth.

Blom, R. 2004. The handbook of Gestalt Play Therapy: Practical guidelines for child therapists. Philadelphia, PA: Jessica Kingsley.

Bradshaw, C., S. Atkinson en O. Doody. 2017. Employing a qualitative description approach in health care research. Global Qualitative Nursing Research, 4:1–8. DOI: 10.1177/2333393617742282.

Braun, V. en V. Clarke. 2006. Using thematic analysis in psychology. Qualitative Research in Psychology, 3(2):77–101. http://dx.doi.org/10.1191/1478088706qp063oa.

Bronson, M.B. 2000. Self-regulation in early childhood: Nature and nurture. New York, NY: Guilford.

Burdette, H.L. en R.C. Whitaker. 2005. Resurrecting free play in young children: Looking beyond fitness and fatness to attention, affiliation, and affect. Archive of Pediatric and Adolescent Medicine, 159(1):46–50. DOI:10.1001/archpedi.159.1.46.

Calkins, S.D. en M.A. Bell. 2010. Child development at the intersection of emotion and cognition. Washington DC: American Psychological Association.

Canadian Public Health Association (CPHA). 2019. Children’s Unstructured Play Position Statement. Maart. https://www.cpha.ca/childrens-unstructured-play (2 Junie 2020 geraadpleeg).

Casey, T. 2005. Inclusive play: Practical strategies for children from birth to eight. Londen: Sage.

Chudacoff, H.P. 2007. Children at play: An American history. New York, NY: New York University Press.

Clark-Kazak, C. 2013. Ethical considerations: Research with people in situations of forced migration. Refugee, 33(2):11–7.

Clarkson, P. 2002. Gestalt counselling in action. Londen: Sage.

Creswell, J.W. en V.L. Plano Clark. 2011. Designing and conducting mixed methods research. 2de uitgawe. Thousand Oaks, CA: Sage.

De Vos, A.S., H. Strydom, C.B. Fouché en C.S.L. Delport (reds.). 2011. Research at grass roots for the social sciences and human service professions. 4de uitgawe. Pretoria: Van Schaik. 

De Witt, M.W. 2009. The young child in context: A thematic approach: Perspectives from educational psychology and sociopedagogics. Pretoria: Van Schaik. 

Dowling, M. 2005. Young children’s personal, social and emotional development. 2de uitgawe. Londen: Sage.

Drake, J. 2003. Organising play in the early years. Londen: David Fulton.

Elkind, D. 2007. The power of play: Learning what comes naturally. Philadelphia, PA: Da Capo Press.

Ferrera, K., K. Hirsh-Pasek, N.S. Newcombe, R.M. Golinkoff en W.S. Lam. 2011. Block talk: Spatial language during block play. Mind, Brain, and Education, 5(3):143─51. DOI:10.1111/j.1751-228X.2011.01122.x.

Fritz, G.K. 2011. The Brown University child and adolescent behaviour letter. Maart. https://library.villanova.edu/Find/Summon/Search?type=Authoren lookfor=Fritz%2C%20Gregory%20K (10 Oktober 2011 geraadpleeg).

Frost, J.L., S. Reifel en S.C. Wortham. 2005. Play and child development. Hoboken, NJ: Pearson Education. 

Gill, T. 2014. The benefits of children’s engagement with nature: A systematic literature review. Children, Youth and Environments, 24(2):10–34.

Ginsburg, K.R. 2007. The importance of play in promoting healthy child development and maintaining strong parent-child bonds. Pediatrics, 119(1):182─91. DOI: 10.1542/peds.2006-2697. 

Gleave, J. 2009. Children’s time to play: A literature review. Londen: NCB.

Harwood, R., S.A. Miller en R. Vasta. 2008. Child psychology: Development in a changing society. 5de uitgawe. Chicago, IL: R.R. Donnelley.

Herrington, S. en M. Brussoni. 2015. Beyond physical activity: The importance of play and nature-based play spaces for children’s health and development. Current Obesity Report, 4:477–83. DOI: 10.1007/s13679-015-0179-2. 

Honoré, C. 2008. Under pressure: Rescuing our children from the culture of hyper-parenting. New York, NY: HarperCollins.

Hoyle, R.H. 2010. Handbook of personality and self-regulation. Oxford: Blackwell.

Hughes, F.P. 2010. Children, play and development. 4de uitgawe. Londen: Sage. 

Jiggens Colorafi, K. en B. Evans. 2016. Qualitative descriptive methods in health science research. Health Environments Research and Design Journal, 9(4):16─25. DOI: 10.1177/1937586715614171.

Johnstone, A., A.R. Hughes, A. Martin en J.J. Reilly. 2018. Utilising active play interventions to promote physical activity and improve fundamental movement skills in children: A systematic review and meta-analysis. BMC Public Health, 18:789–800. https://doi.org/10.1186/s12889-018-5687-z (2 Junie 2020 geraadpleeg).

Kaplan, P.S. 2000. A child’s odyssey: Child and adolescent development. Belmont, CA: Wadsworth.

Landreth, G.L. 2006. Play therapy: The art of the relationship. 2de uitgawe. New York, NY: Brunner-Routledge.

Levine, L.E. en J. Munsch. 2011. Child development: An active learning approach. Londen: Sage.

Lillemyr, O.F. 2009. Taking play seriously in play in early childhood education: An exciting challenge. Charlotte, NC: Information Age.

Lindon, J. 2001. Understanding children’s play. Cheltenham: Nelson Thornes. 

Louw, D.A. en A.E. Louw. 2007. Die ontwikkeling van die kind en die adolessent. Bloemfontein: Departement Sielkunde.

Luyt, S. 2020. Skermslaaf: Sit jou kind dikwels voor ’n skerm vasgenael? Pasop – dit kan gevaarlik vir sy ontwikkeling wees. PressReader, Februarie. https://www.pressreader.com/south-africa/baba-kleuter/20200201/281754156273160 (6 Mei 2020 geraadpleeg).

Maree, K. (red.). 2016. First steps in research. 2de uitgawe. Pretoria: Van Schaik.

Mariam, E., S. Sazia Zaman, S. Yesmin, S. Huq en S.S. Sarwar. 2019. BRAC Humanitarian play lab: When playing becomes healing. Bernard van Leer Foundation. https://bernardvanleer.org.

Meier, C. en P. Marais. 2007. Education management in early childhood development. Pretoria: Van Schaik.

Miller, D.L., K. Tichota en J. White. 2009. Young children learn through authentic play in a nature explore classroom: A White Paper based on research conducted at Dimensions Early Education Programs in Lincoln, NE. https://dimensionsfoundation.org/wp-content/uploads/2016/07/youngchildrenauthenticplay.pdf (17 Oktober 2019 geraadpleeg).

Mills, R.M. en S. Duck. 2000. The developmental psychology of personal relationships. Oxford: John Wiley.

Milteer, R.M. en K.R. Ginsburg. The importance of play in promoting healthy child development and maintaining strong parent-child bond: Focus on children in poverty. American Academy of Pediatrics, 129(1): e204-e213. doi:10.1542/peds.2011-2953.

Naidoo, M. 2017. Die impak van te veel skermtyd op kinders. Solidariteit/Solidarity, 20 Julie 2017. https://jougesin.solidariteit.co.za/die-impak-van-te-veel-skermtyd-op-kinders (6 Mei 2020 geraadpleeg).

Nieuwenhuis, J. 2016. Qualitative research designs and data gathering techniques. In Maree (red.) 2016.

O’Donoghue, T. 2007. Planning your qualitative research project: An introduction to interpretivist research in education. Milton Park: Routledge.

Palmer, K.K., A.L. Matsuyama en L.E. Robinson. 2017. Impact of structured movement time on preschoolers’ physical activity engagement. Early Childhood Education Journal, 45:201–6. DOI: 10.1007/s10643-016-0778-x.

Papalia, D.E., S.W. Olds en R.D. Feldman. 2002. A child’s world: Infancy through adolescence. 9de uitgawe. New York, NY: McGraw-Hill.

Pellegrini, A.D. en P.E. Nathan (reds.). 2011. The Oxford handbook of the development of play. Oxford: Oxford University Press.

Pieterse, M. 2001. Speel-speel skoolgereed: Maak jou kind van geboorte af leer- en skoolgereed: ’n Praktiese gids. Hoheizen: Metz Press.

Plowright, D. 2011. Using mixed methods: Frameworks for an integrated methodology. Thousand Oaks, CA: Sage.

Quist, D. 2007. Who’s playing around now? Overscheduled parents mean overscheduled kids. https://www.imfcanada.org/sites/default/files/who's_playing_around_now.pdf (17 Oktober 2019 geraadpleeg).

Rock, A. 2017. Important types of play in your child’s development. https://www.verywellfamily.com/types-of-play-2764587 (12 September 2019 geraadpleeg).

Sandelowski, M. 2000. Whatever happened to qualitative description? Research in Nursing and Health, 23(4):334–40. http://dx.doi.org/10.1002/1098-240X(200008)23:4<334::AID-NUR9>3.0.CO;2-G.

Sandelowski, M. 2010. What’s in a name? Qualitative description revisited. Research in Nursing and Health, 33(1):77─84. DOI:10.1002/nur.20362.

Santer, J., D. Goodall en C. Griffiths. 2007. Free play in early childhood: A literature review. Londen: National Children’s Bureau. 

Sarantakos, S. 2013. Social research. 4de uitgawe. New York, NY: Palgrave Macmillan.

Schurink, W., C.B. Fouché en A.S. de Vos. 2011. Qualitative data analysis and interpretation. In De Vos e.a. (reds.) 2011.

Shaffer, D.R. 1999. Developmental psychology: Childhood and adolescence. 5de uitgawe. Belmont, CA: Brooks/Cole.

Shenton, A.K. 2004. Strategies for ensuring trustworthiness in qualitative research projects. Education for Information, 22(2):63–75.

Singer, D.G., R.M. Golinkoff, K. Hirsh-Pasek en L.E. Berk. 2006. A mandate for play learning in preschool: Presenting the evidence. Oxford: Oxford University Press. 

Smith, P.K., H. Cowie en M. Blades. 2011. Understanding children’s development. 5de uitgawe. Oxford: John Wiley. 

Sokol, B.W., U. Muller, J.I.M. Carpendale, A.R. Young en G. Iarocci. 2010. Self and social regulation: Social interaction and the development of social understanding and executive functions. New York, NY: Oxford University Press.

Sunderland, J. 2007. Child development. Holmfirth: Lonsdale.

Sundler, A.J., E. Lindberg, C. Nilsson en L. Palmér. 2019. Qualitative thematic analysis based on descriptive phenomenology. Nursing Open, 6:733–9. https://onlinelibrary.wiley.com/doi/epdf/10.1002/nop2.275.

Swartz, L., C. de la Rey en N. Duncan. 2004. Psychology: An introduction. Kaapstad: Oxford University Press.

Tassoni, P. en K. Hucker. 2005. Planning play and the early years. Oxford: Heinemann.

Timberlake, E.M. en M. Moore Cutler. 2001. Play therapy in clinical social work. Hoboken, NJ: Pearson. 

Trawick-Smith, J. en T. Dziurgot. 2011. “Good-fit” teacher-child play interactions and the subsequent autonomous play of preschool children. Early Childhood Research Quarterly, 26(1):110–23. DOI:10.1016/j.ecresq.2010.04.005.

Tremblay, M.S., C. Gray, S. Babcock, J. Barnes, C.C. Bradstreet, […] en M. Brussoni. 2015. Position statement on active outdoor play. International Journal on Environmental Research and Public Health, 12:6475–505. DOI:10.3390/ijerph120606475.

Truelove, S., L.M. Vanderloo en P. Tucker. 2017. Defining and measuring active play among young children: A systematic review. Journal of Physical Activity and Health, 14:155–66. DOI:10.1123/jpah.2016-0195. 

Unicef. 2018. Learning through play: Strengthening learning through play in early childhood education programmes. The Lego Foundation. New York, NY: Unicef.

Uren, N. en K. Stagnitti. 2009. Pretend play, social competence and involvement in children aged 5–7 years: The concurrent validity of the Child-Initiated Pretend Play Assessment. Australian Occupational Therapy Journal, 56(1):33–40. DOI:10.1111/j.1440-1630.2008.0761.x.

Vaismoradi, M., H. Turunen en T. Bondas. 2013. Content analysis and thematic analysis: Implications for conducting a qualitative descriptive study. Nursing and Health Sciences, 15(3):398–405. DOI:10.1111/nhs.12048.

Van Rensburg, E. en B. van Rensburg. 2010. Dis oukei … as jou kinders verskil! Vanderbijlpark: Carpe Diem. 

Wait, J., J. Meyer en H. Loxton. 2005. Menslike ontwikkeling: ’n Psigososiale perspektief. Parow-Oos: Ebony. 

Woldt, A.L. en S.M. Toman. 2005. Gestalt therapy: History, theory and practice. Thousand Oaks, CA: Sage. 

Woodward, A. en A. Needham. 2009. Learning and the infant mind. New York, NY: Oxford University Press.

Yontef, G. 1993. Awareness, dialogue and process: Essays on Gestalt therapy. New York, NY: The Gestalt Journal Press.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Ouers se motivering om gestruktureerde spel bo ongestruktureerde spel te verkies tydens die voorskoolse ontwikkelingstadium appeared first on LitNet.

Entrepreneurskapspotensiaal: ’n Ontleding van die Suid-Afrikaanse Verbruikerstudiekurrikulum en -onderwyspraktyke 

$
0
0

Entrepreneurskapspotensiaal: ’n Ontleding van die Suid-Afrikaanse Verbruikerstudiekurrikulum en -onderwyspraktyke 

Adri du Toit, Skool vir Wiskunde, Wetenskap en Tegnologie vir Onderwys, Noordwes-Universiteit

LitNet Akademies Jaargang 17(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Die hoë jeugwerkloosheidkoers in Suid-Afrika is kommerwekkend. Dié probleem kan aangeroer word deur leerders reeds op skoolvlak met entrepreneurskapskennis en -vaardighede toe te rus wat hulle kan aanwend om selfgerigte werkskepping te bevorder. Die bedoelde kurrikulum van Verbruikerstudie (’n Suid-Afrikaanse hoërskoolvak) omvat reeds omvangryke entrepreneurskapsinhoud. Die wyse waarop Verbruikerstudie-onderwysers die bedoelde kurrikulum toepas het ook ’n aansienlike impak op die ontwikkeling van leerders se entrepreneurskap. Sowel die bedoelde as die toegepaste kurrikulum beïnvloed leerders se entrepreneurskapsleer. Die volgende vraag het dié ondersoek gerig: Hoe kan die entrepreneurskapspotensiaal wat in die Verbruikerstudiekurrikulum opgesluit is in die praktyk tot die grootste voordeel van leerders aangebied word? Hierdie navorsing is deur die lens van die gedeelde-lot-teorie benader: Aangesien hoë werkloosheid alle Suid-Afrikaners negatief beïnvloed, sal ’n verhoging in selfgerigte werkskepping – gerugsteun deur entrepreneurskap in Verbruikerstudie – almal in die land se lot kan verbeter, veral dié van leerders. Dokumentontleding is uitgevoer op die Verbruikerstudiekurrikulumdokument om vas te stel watter entrepreneurskapsaspekte in die bedoelde kurrikulum ingesluit is. Daarna is Verbruikerstudie-onderwysers regoor Suid-Afrika genooi om ’n aanlyn vraelys te voltooi, waarna fokusgroeponderhoude met opvolgvrae in elk van die nege provinsies gevoer is. Data-ontleding was grotendeels kwalitatief van aard, maar soms is daar ook van numeriese inligting gebruik gemaak (in die vorm van grafieke) om die kwalitatiewe verslag te rugsteun. Nieteenstaande die Verbruikerstudie-kurrikulum se beduidende entrepreneurskapspotensiaal, en vakonderwysers se besef dat entrepreneurskap ’n noodsaaklike deel van dié vak is, dui die bevindinge daarop dat slegs ’n klein persentasie van Verbruikerstudie-onderwysers formele opleiding vir entrepreneurskapsonderrig ontvang het. Verder gebruik die meeste Verbruikerstudie-onderwysers nie geskikte metodes om die entrepreneurskapsinhoud in die kurrikulum aan te bied nie, wat twyfel laat ontstaan of leerders ten volle by die vak se entrepreneurskapspotensiaal baat vind. Daar word aanbeveel dat gefokuste en sinvol gestruktureerde entrepreneurskapopleidingsgeleenthede vir Verbruikerstudie-onderwysers geskep moet word ten einde hulle in die praktiese toepassing van hierdie waardevolle praktykgerigte leer te ondersteun, wat mag bydra tot leerders se voornemens om selfgerigte werkgeleenthede te skep.

Trefwoorde: bedoelde kurrikulum; entrepreneurskapsonderrig; jeugwerkloosheid; kurrikulumontleding; selfgerigte werkskepping; toegepaste kurrikulum; Verbruikerstudie

 

Abstract

Entrepreneurship potential: An analysis of the South African Consumer Studies curriculum and teaching practices

The high unemployment rate of youth in South Africa is concerning. This problem can be addressed by equipping learners at school level with entrepreneurial knowledge and skills they can use to promote self-directed job creation. Entrepreneurship education holds several benefits for learners, such as developing knowledge, skills, capabilities and attitudes that they can use in everyday life, employment situations, or when they choose to become entrepreneurs. The intended curriculum of Consumer Studies (a South African high school subject) already covers comprehensive entrepreneurship content. Consumer Studies is an elective subject offered to high school learners in the Further Education and Training (FET) Phase. The entrepreneurship education in Consumer Studies is intended to be combined with practical (making) skills, which could provide learners with entrepreneurial opportunities to create their own employment. This intention is evident in the subject-specific aim that learners must learn about “small-scale production, entrepreneurship and marketing of quality products” (Department of Basic Education, 2011:9). The way in which Consumer Studies teachers implement the intended curriculum (the implemented curriculum), however, also has a significant impact on the development of learners’ entrepreneurship learning. Using preferred strategies such as learner-centred, active problem-based learning will bolster the implementation of entrepreneurship education, to the benefit of learners.

As Consumer Studies is the subject with the most entrepreneurship education in the intended South African school curriculum, the implementation in practice of the entrepreneurship education embedded in the subject needs to be analysed to ensure that learners are receiving the full benefit of the intended entrepreneurship potential therein. Furthermore, as both the intended and the implemented curriculum can significantly affect learners’ entrepreneurship education, the dynamic interaction between these two elements had to be carefully considered. The problem that needed to be investigated was how the entrepreneurship potential embedded in the intended Consumer Studies curriculum could be offered with the greatest benefit to learners through its implementation in practice. The following question guided this inquiry: How can the entrepreneurship potential that is embedded in the Consumer Studies curriculum be presented in practice to the greatest advantage of learners? The shared fate theory (Ben-Porath 2013) was utilised as theoretical lens in this investigation: All South Africans – including youth – are thus viewed as sharing the same fate of potentially experiencing high levels of unemployment. Against this background, an increase in self-directed employment creation – supported by the entrepreneurship education potential embedded in Consumer Studies – could improve the shared unemployment lot of South Africans, particularly learners (youth).

A document analysis of the Consumer Studies Curriculum and Assessment Policy Statement was conducted to determine which aspects of entrepreneurship are currently included in the intended curriculum for this subject. Subsequently, practising Consumer Studies teachers from across South Africa were invited to complete an online questionnaire with both open- and closed-ended questions focusing on their approach toward and implementation practices of entrepreneurship education as part of Consumer Studies. From the 1 385 schools offering Consumer Studies as subject at the time of this study, 166 teachers of the subject completed the online questionnaire. Thereafter, focus group interviews were conducted with a small number of Consumer Studies teachers in each of South Africa’s nine provinces so as to obtain deeper explanations and clarify issues that emerged from the questionnaire data. The data from the questionnaires and focus group interviews provided insights into how teachers implement the intended Consumer Studies curriculum in practice. Data analysis was mainly qualitative. A priori codes from literature as well as a posteriori codes that emerged from the data (from questionnaires and focus group interviews) were used. In addition, numerical information from the data sets was used to support the qualitative data, mainly in the form of graphs.

The findings indicated that the intended Consumer Studies curriculum includes significant amounts of effectively constructed entrepreneurship education, highlighting this subject’s potential to contribute to South African learners’ entrepreneurial development. About 70% of teachers in the subject were found to be appreciative of the valuable and essential contribution of entrepreneurship as part of Consumer Studies. It also emerged that only a small percentage of Consumer Studies teachers have formal training for entrepreneurship education and that most Consumer Studies teachers do not use suitable pedagogies or teaching-learning methods for entrepreneurship education. Participants reported that they relied heavily on the Consumer Studies textbooks as resource and on content-based approaches or methods to support the teaching and learning of entrepreneurship in the subject. Relying mostly on textbooks and content-based learning will not allow learners to benefit optimally from the many real-life and exciting opportunities that entrepreneurship education can offer them.

Several obstacles to effective implementation of entrepreneurship education in Consumer Studies also emerged from the data: large numbers of learners (on occasion exceeding 40 learners) per class; a lack of subject-specific resources (other than textbooks) to support entrepreneurship education; and financial inequality across schools, which negatively affects the conducting of practical lessons to support entrepreneurial product development. These issues, together with the reported lack of focused teacher training for entrepreneurship education, cast doubt on whether learners will fully benefit from the entrepreneurship potential embedded in Consumer Studies. It is therefore recommended that focused and well-structured entrepreneurship education training opportunities should be developed for Consumer Studies teachers as a starting point to support them in the implementation of this valuable learning in practice. This type of professional development of teachers should improve their implementation of the positive entrepreneurship education already embedded in the intended curriculum by developing their insights into the preferred pedagogical approaches for effective entrepreneurship education as well as skills to develop interesting and efficient teaching-learning resources. Better trained teachers, in turn, could contribute to their learners’ intentions to create self-directed employment, which will improve the shared fate of unemployment for at least some of these youths.

Keywords: applied curriculum; Consumer Studies; curriculum analysis; entrepreneurship education; intended curriculum; self-directed job creation; youth unemployment

 

1. Inleiding en agtergrond van die navorsing

Jeugwerkloosheid is wêreldwyd ’n toenemende probleem, maar veral in Suid-Afrika, waar onlangse statistieke toon dat soveel as 58,2% van jongmense werkloos is (Trading Economics 2019). Navorsing toon telkens dat entrepreneurskapsonderrig ’n positiewe bydrae kan maak tot die verlaging van werkloosheid (Wilson, Vyakarnam, Volkmann, Mariotti en Rabuzzi 2009:7; Tremblay, Brière, Daou en Baillargeon 2013:2; Ekpiken en Ukpabio 2015:24) deur leerders se vaardighede te ontwikkel om self werk te skep (Mwasalwiba 2010:29).

Aangesien formele skoolonderrig vir alle leerders vanaf 7 jaar tot minstens 15 jaar verpligtend is (Suid-Afrikaanse Skolewet 1996), sou die skoolkurrikulum die ideale grondslag kon voorsien om ondernemerskap-/entrepreneurskapsonderrig te bevorder. ’n Uitvoerige ontleding van die Suid-Afrikaanse Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) vir skoolonderrig deur Du Toit en Kempen (2018:8) het egter aan die lig gebring dat entrepreneurskap slegs sporadies en onsamehangend in ’n paar vakke in die skoolkurrikulum te berde gebring word (tabel 1). Wanneer die totale getal weke wat aan entrepreneurskapsinhoud gewy word oor die drie jaar van die Verdere Onderwys- en Opleidingsfase (VOO-fase) met hul bevindinge vergelyk word (tabel 1), is dit duidelik dat min vakke tans werklike entrepreneurskapsonderrigpotensiaal inhou.

Tabel 1. Entrepreneurskapsinhoud per vak in verskillende grade in die VOO-fase
(Du Toit en Kempen 2018:8, uitgebrei deur outeur)

Vakke

Graad 10

Graad 11

Graad 12

Getal weke

Besigheidstudie

 

4

Ekonomie

 

 

< 1

Gasvryheidstudie

 

 

< 1

Landboubestuurspraktyk

 

 

2

Landbouwetenskappe

 

 

1

Toerisme

 

 

1

Verbruikerstudie

16

 

Du Toit en Kempen (2018:8) bevestig dat slegs twee hoërskoolvakke – Besigheidstudie en Verbruikerstudie – beduidende entrepreneurskapsinhoud bevat. Die Verbruikerstudiekurrikulum ruim egter 4 keer meer tyd in (16 weke) as die Besigheidstudiekurrikulum (4 weke) om aan die teoretiese aspekte van entrepreneurskap aandag te gee (Du Toit en Kempen 2018:8) (tabel 1). Die Verbruikerstudiekurrikulum omvat ook uitdruklike opdragte dat die teoretiese entrepreneurskapsinhoud verbind moet word met die praktiese (maak-) vaardighede wat leerders in die vervaardigingsafdeling van dié vak ontwikkel (DBO 2011:23), waar hulle onder meer voedselprodukte, soos kolwyntjies (DBO 2011:39), of naaldwerkprodukte, soos bababeddegoed (DBO 2011:51), maak. Dié vak ruim verreweg die meeste tyd in vir entrepreneurskapsonderrig vergeleke met al die vakke in die Suid-Afrikaanse skoolkurrikulum, wat impliseer dat laasgenoemde kombinasie van entrepreneurskapskennis met praktiese (maak-) vaardighede onbeperkte entrepreneurskapspotensiaal inhou vir leerders om selfgerig hulle eie werkgeleenthede te skep. Hierdie veronderstelling is gebaseer op die feit dat beleide (soos kurrikula) en onderrigprogramme belangrike bydraende faktore is in die ontwikkeling van leerders se belangstelling daarin en voornemens om hul eie besighede te begin (Do Paço, Ferreira, Raposo, Rodrigues en Dinis 2011). Dit beteken dat goed beplande en geïmplementeerde entrepreneurskapsonderrig die potensiaal het om leerders te motiveer om entrepreneurs te word.

 

2. Probleemstelling

Die behoefte aan goed ontwikkelde entrepreneurskapsonderrig in Suid-Afrika is onbetwisbaar (Koekemoer en Booyse 2013:545; Steenekamp 2013:82; Umalusi 2014:19). Die vraag wat in dié ondersoek beantwoord moes word, was hoe die entrepreneurskapspotensiaal wat in die Verbruikerstudiekurrikulum opgesluit is, in die praktyk tot die grootste voordeel van leerders aangebied kan word.

’n Kurrikulum is ’n stel riglyne wat aan onderwysers leiding voorsien ten opsigte van inhoud en pedagogiese benaderings vir verskillende vakke en vlakke van onderrig (Thijs en Van den Akker 2009:45). Die sogenaamde papierdokument of bedoelde kurrikulum (“intended curriculum”) dra slegs een deel tot die totale kurrikulum by. Die toegepaste kurrikulum (d.w.s. hoe die kurrikulum deur onderwysers vertolk en uitgevoer word) speel egter ’n ewe belangrike rol in leerderonderrig (Thijs en Van den Akker 2009:10). Nieteenstaande die positiewe entrepreneurskapspotensiaal wat in die bedoelde kurrikulum vir Verbruikerstudie ingesluit is, speel die manier waarop onderwysers die kurrikulum vertolk en uitvoer net so ’n groot rol in hoe doeltreffend leerders se entrepreneurskapspotensiaal ontwikkel word. Met ander woorde, ongeag die besonder goed saamgestelde voorgeskrewe entrepreneurskapsinhoud in die papierdokument, is leerders se entrepreneurskapsonderrig steeds afhanklik van die suksesvolle aanbieding van daardie inhoud deur onderwysers. Ten einde vas te stel welke bydrae die vak Verbruikerstudie kan lewer tot die ontwikkeling van leerders se selfgerigte werkskepping, is die entrepreneurskapsinhoud in die bedoelde kurrikulum van dié vak in hierdie navorsingsprojek ontleed en vergelyk met hoe vakonderwysers die onderrig van hierdie inhoud in die praktyk benader.

Hierdie artikel het ten doel om verslag te doen oor die navorsing wat uitgevoer is ten einde vas te stel hoe entrepreneurskapsonderrig in Verbruikerstudie deur vakonderwysers benader word – veral inaggenome dat hierdie vak die grootste entrepreneurskapspotensiaal van alle Suid-Afrikaanse skoolvakke inhou. Die ondersoek was daarop gerig om die bedoelde en toegepaste kurrikulum vir Verbruikerstudie te ontleed en te vergelyk ten einde vas te stel hoe die entrepreneurskapspotensiaal wat in die vak opgesluit is tot groter voordeel van leerders in die praktyk geïmplementeer kan word. Drie subvrae is geformuleer om die navorsing te struktureer:

  1. Waar en tot welke mate is entrepreneurskap ingesluit in die bedoelde kurrikulum vir Verbruikerstudie?
  2. Hoe vertolk en pas Verbruikerstudie-onderwysers entrepreneurskapsonderrig in hulle daaglikse praktyk toe?
  3. Hoe kan die potensiaal van die entrepreneurskapsonderrig wat in die Verbruikerstudiekurrikulum opgesluit is, uitgebrei word?

Die langtermyndoel van die navorsing was om Verbruikerstudieleerders met entrepreneurskapsonderrig te bemagtig sodat hulle kan bydra tot ’n toename in selfgerigte werkskepping in Suid-Afrika.

Die artikel is verder soos volg saamgestel: ’n Teoretiese raamwerk vir entrepreneurskapsonderrig word in die volgende afdeling aangebied, waarin die voordele asook die voorkeure ten opsigte van kurrikulumsamestelling en implementeringstrategieë vir entrepreneurskapsonderrig in die lig van die gedeelde-lot-teorie bespreek word. Daarna word die navorsingsontwerp wat vir dié studie gebruik is verduidelik en bevindinge word deur die lens van die teoretiese raamwerk bespreek. Laastens word gevolgtrekkings en aanbevelings gemaak betreffende die bevordering van die entrepreneurskapspotensiaal in Verbruikerstudie.

 

3. Teoretiese raamwerk vir entrepreneurskapsonderrig

Die navorsing is benader vanuit die veronderstelling dat entrepreneurskap wél onderrig en ontwikkel kan word, eerder as die veronderstelling dat dit iets is waarmee (net sekere) leerders gebore word. Hierdie is ’n standpunt wat deur verskeie ander verenigings en navorsers gedeel word, onder andere Steenekamp (2013:393), die Entrepreneurship 2020 Unit (2014:9), Ruskovaara (2014:49) en Valerio, Parton en Robb (2014:36). As dit dan iets is wat onderrig kan word, is dit belangrik om te verstaan waarom entrepreneurskapsonderrig en -leer as waardevol beskou word, veral in die Suid-Afrikaanse konteks.

Verder word entrepreneurskapsonderrig beskou as kurrikuluminhoud met besondere lewenswerklike toepassings in Verbruikerstudieleerders se onderrig-leer, wat leerders kan inspireer om selfgerig werk te skep, wat gevolglik werkloosheid kan voorkom vir leerders wat kies om hierdie geleentheid aan te gryp.

3.1 Voordele wat entrepreneurskapsonderrig vir Suid-Afrikaanse leerders inhou

Entrepreneurskapsonderrig ontwikkel en versterk kennis, vaardighede en bekwaamhede wat leerders in entrepreneuriese geleenthede kan toepas (Ndedi 2012:59; Rasmussen, Moberg en Revsbech 2015:7). Entrepreneurskapkennis behels vanselfsprekende leerinhoud soos eienskappe van suksesvolle entrepreneurs, bemarkingstrategieë en besigheidsplanne (Sirelkhatim en Gangi 2015:5) asook ander inhoud soos die vereistes van gehalte produkte of verduidelikings betreffende hoe om konseptoetse en behoeftebepalings uit te voer (DBO 2011:15). Kennis wat só ontwikkel word, is tot leerders se voordeel veral wanneer hulle dit in die identifisering of ontwikkeling van nuwe geleenthede wat entrepreneurskapspotensiaal toon kan toepas (Malerba en McKelvey 2019:555).

Entrepreneurskapsonderrig behels ook die ontwikkeling van ’n verskeidenheid vaardighede – soos emosionele, kognitiewe, sosiale en praktiese vaardighede – wat tot suksesvolle entrepreneurskap bydra (Rusok, Kumar en Rahman 2017:700). Sommige navorsers verwys na hierdie vaardighede as sagte vaardighede (“soft skills”) (Entrepreneurship 2020 Unit 2014:38). Kreatiewe en kritiese denke, goeie kommunikasie, samewerking en probleemoplossing word herhaaldelik onderstreep as belangrike vaardighede wat leerders in entrepreneurskapsonderrig moet ontwikkel (Wilson e.a. 2009:13; Meintjes, Henrico en Kroon 2015:1) om entrepreneurskap te ondersteun. Hierdie vaardighede is voordelig vir leerders in vele lewensomstandighede, binne en buite entrepreneurskap, in hulle daaglikse lewens asook in die beroepswêreld (Entrepreneurship 2020 Unit 2014:4; Berglund en Verduijn 2018:6). Selfs al volg leerders nie ’n entrepreneuriese koers ná skool nie, ontwikkel hulle steeds die voordelige vaardighede wat in entrepreneurskapsonderrig opgesluit is.

Die term bekwaamhede dek ’n wye veld met verskeie elemente, maar Rasmussen e.a. (2015:9–10) verwys spesifiek na die verantwoordelike keuse en gebruik van hulpbronne, benaderings tot onsekerheid, houdings jeens entrepreneurskap, en finansiële geletterdheid as bekwaamhede wat in entrepreneurskapsonderrig ontwikkel moet word. Net soos die vaardighede wat in entrepreneurskapsonderrig ontwikkel word, is ook hierdie bekwaamhede tot voordeel van leerders in verskeie aspekte van hulle lewens en nie slegs van toepassing in entrepreneurskap nie.

Die vaardighede en bekwaamhede wat deur gefokuste entrepreneurskapsonderrig ontwikkel word, vernuwe leerders se denkwyses en help hulle om geleenthede raak te sien en idees te ontwikkel om iets waardevol te ontwerp (Rasmussen e.a. 2015:8; Deense Stigting vir Entrepreneurskap 2017). Hierdie “iets waardevol” kan ’n diens, ’n onderneming of ’n produk wees waaraan verbruikers waarde heg (Davidow 2015:24). Waardetoevoeging tot die samelewing of selfs tot ’n individu is dus ’n belangrike voordeel van entrepreneurskap en word daarom beskou as een van die kerndoelwitte wat vir entrepreneurskapsonderrig gestel word (Steenekamp 2013:123).

Waardetoevoeging deur entrepreneurskap geskied hoofsaaklik op drie gebiede: bydraend tot die ekonomie; bydraend tot die sosiale omgewing; of bydraend tot die natuurlike omgewing. Die ekonomiese waarde wat entrepreneurskapsonderrig toevoeg is waarskynlik die bekendste voordeel van entrepreneurskap (Entrepreneurship 2020 Unit 2014:4; Du Toit en Gaotlhobogwe 2018:38). Entrepreneurs ontwikkel selfgerig werkgeleenthede wat ’n inkomste kan oplewer of selfs addisionele werkgeleenthede vir andere kan skep en daardeur voordelig is vir ekonomiese groei. Wanneer entrepreneurs sosiale probleme oplos (bv. om drinkwater te voorsien in droogtegeteisterde gebiede), lei dit tot verhoogde sosiale samehorigheid, word swaarkry verlig en is dit tot voordeel van die samelewing (Lackéus 2016:18). In sulke gevalle word sosialewaardetoevoeging eerder as finansiële voordeel beklemtoon. Wanneer entrepreneurs fokus op die behoud van die natuurlike omgewing of die oplossing van probleme wat die natuur benadeel, word dit beskou as waardetoevoeging tot die natuurlike omgewing en word ontferming eerder as wins beklemtoon (York, O’Neil en Sarasvathy 2016:696). Entrepreneurskapsonderrig hou dus nie net voordele vir leerders in nie, maar kan ook waarde tot die ekonomie, die samelewing en die natuur toevoeg.

Dit kan ingewikkeld wees om hierdie kennis, vaardighede en bekwaamhede tegelyk maar sinvol in entrepreneurskapsonderrig te bevorder en te ontwikkel (Steenekamp 2013:170). Noukeurige beplanning van die kurrikulum asook verwante leergeleenthede is daarom nodig.

3.2 Kurrikulumstruktuur vir entrepreneurskapsonderrig

Sommige outeurs is van mening dat entrepreneurskapsonderrig lukraak en ordeloos behoort te wees om die werklikheid van entrepreneurskap beter te weerspieël (Powell 2013:102). Hierteenoor is daar ook die verwagting dat ’n ingewikkelde kombinasie van kennis, vaardighede en bekwaamhede tegelyk ontwikkel behoort te word, en vanuit ’n konstruktivistiese benadering maak ’n gestruktureerde en beplande benadering tot onderrig meer sin. Die behoefte aan beplande onderrig is waarskynlik ook die rede vir die groot aantal reeds ontwikkelde en voorgestelde raamwerke vir entrepreneurskapsonderrig: Die raamwerke weerspieël pogings om die ingewikkelde leerproses van entrepreneurskapsonderrig duideliker voor te stel of toegankliker te maak. Hoewel sommige raamwerke lineêr van aard is, neig nuwer navorsing na meer dinamiese ordening of herhalingsamestelling van entrepreneurskapsinhoud binne hierdie raamwerke (Maritz 2017:472).

Herhalende elemente verwant aan die wie, wat, waar, hoekom en hoe van die proses van entrepreneurskapsonderrig kom onafhanklik van die rangskikking daarvan binne verskillende raamwerke na vore (Fayolle en Gailly 2008:575; Steenekamp 2013:145; Huq en Gilbert 2017:158). Dit is dus belangrik om die tipe leerder (wie), die beplande leerinhoud of vaardighede wat ontwikkel moet word (wat), die leeromgewing (waar), die begronding of redes vir die onderrig (hoekom) asook die strategieë wat gebruik gaan word vir die implementering van entrepreneurskapsonderrig (hoe) as deel van die beplanning van die proses te oorweeg.

3.3 Voorkeur-implementeringstrategieë vir entrepreneurskapsonderrig

Gemeet aan die ingewikkeldheid van die proses van entrepreneurskapsonderrig is die keuse van die strategie waarmee sulke leer geïmplementeer word waarskynlik gebiedend noodsaaklik. Navorsers is dit eens dat aktiewe, leerdergesentreerde ervaringsleerstrategieë voorkeur bó ander metodes moet geniet (Wilson e.a. 2009:13; Mwasalwiba 2010:27; Deveci en Seikkula-Leino 2015:35; Hägg en Kurczewska 2016:709). Blote inhoudsgebaseerde onderrig – waar onderwysers meestal praat en leerders luister (en nie aktief betrokke is nie) – is nie ’n geskikte benadering vir entrepreneurskapsonderrig nie (Wilson e.a. 2009:14). Dit is belangrik dat leerders se leerervarings so na as moontlik met lewenswerklike situasies belyn word ten einde hulle beter voor te berei vir die omstandighede wat hulle as entrepreneurs in die regte wêreld mag teëkom (Berglund en Verduijn 2018:5). Onderrighulpmiddels of ondersteuningsmateriaal behoort met hierdie voorvereiste belyn te word deur byvoorbeeld geloofwaardige gevallestudies oor entrepreneurskap in te sluit. Nieteenstaande die voordele wat aktiewe, leerdergesentreerde onderrig vir entrepreneurskap inhou, blyk dit uit die literatuur dat die implementering daarvan selde verwesenlik (Hägg en Kurczewska 2016:707).

Verder word dit ook as ’n onontbeerlike aspek van entrepreneurskapsonderrig beskou om uit foute te leer (Wilson e.a. 2009:13) aangesien dit leerders motiveer om probleme te takel of anders te benader en hulle ook voorberei vir die onvoorspelbaarheid van entrepreneurskap in die regte wêreld. Leer by of van kenners is ook nou verwant aan laasgenoemde (uit foute leer). Aangesien onderwysers meestal nie self entrepreneurs is nie, of beperkte persoonlike ervaring van entrepreneurskap het, maak dit sin om kers op te steek by ervare entrepreneurs wat rolmodelle vir leerders in die veld van entrepreneurskap kan wees (Rasmussen e.a. 2015:40).

Die voordele wat entrepreneurskapsonderrig vir leerders inhou, tesame met die ingewikkeldheid van die strukturering van sulke leerervaringe, beklemtoon dikwels die belang van voortgesette navorsing op dié gebied. Vervolgens word die gedeelde-lot-teorie bespreek, wat die huidige ondersoek teoreties begrond.

3.4 Die gedeelde-lot-teorie

Ben-Porath (2013) verduidelik dat alle mense in ’n globale konteks eintlik interafhanklik is en dieselfde lot (“fate”) deel. Die gedeelde lot kan dan van toepassing wees op globale situasies soos die bewaring van die planeet se natuurlike hulpbronne, volhoubare gebruikspraktyke, of oorlogvoorkoming (Ben-Porath 2013:81). Betreffende sulke probleme deel almal dieselfde lot. Soms kan ’n spesifieke nasie of land ook ’n spesifieke lot deel wat deur gedeelde ervarings, behoeftes, politieke oortuiging, omstandighede, ensovoorts, beïnvloed word (Ben-Porath 2013:82). Landsburgers deel dikwels dieselfde lot vanweë gedeelde omstandighede en ontwikkel verskillende maniere om sodanige lot te verbeter, indien moontlik.

Teen hierdie agtergrond word die hoë en groeiende jeugwerkloosheidskoers beskou as ’n aspek van die lot wat alle Suid-Afrikaners deel. Alhoewel werkloosheid ’n wêreldwye probleem is, het Suid-Afrika een van die hoogste werkloosheidsyfers ter wêreld. Jeugwerkloosheid is nie problematies net vir jongmense wat nie ’n werk (of inkomste) het nie, maar gee ook aanleiding tot ander sosiale probleme, soos verhoogde misdaadsyfers, sosiale oproer en swak ekonomiese groei. Alle Suid-Afrikaners is gevolglik in dieselfde omstandighede – ons deel die lot van hoë jeugwerkloosheid – en behoort saam te werk om hierdie lot te probeer verander of verlig. Die voordele wat entrepreneurskap inhou om werkloosheid te verminder, is onbetwisbaar. Die ondersoek waaroor hierna verslag gedoen word, het ten doel gehad om leerders se lot van moontlike werkloosheid te probeer verbeter deur entrepreneurskapsonderrig in Verbruikerstudie beter te implementeer. Leerders wat doeltreffende entrepreneurskapsonderrig ontvang het, kan moontlik self hulle “werkloosheidslot” verbeter deur selfgerig werk te skep. Figuur 1 is ter illustrasie van die verwantskappe tussen die elemente wat bespreek is, saamgestel.

Figuur 1. Teoretiese raamwerk: Entrepreneurskapsonderrig se potensiaal om die gedeelde werkloosheidslot van leerders te verlig

Teen die agtergrond van die gedeelde werkloosheidslot van Suid-Afrikaanse jeug, het goed ontwikkelde entrepreneurskapsonderrig die potensiaal om (sommige) leerders te motiveer om self werk te skep om hierdie lot te ontsnap, mits dié onderrig gesteun word deur ’n noukeurig beplande kurrikulum, tesame met sinvolle implementeringspraktyke. Laastens word ook aangedui dat goed ontwikkelde entrepreneurskapsonderrig ook verskeie ander voordele inhou, buiten die potensiaal vir selfgerigte werkskepping.

 

4. Navorsingsontwerp

4.1 Navorsingsbenadering

Soos vroeër gestel is dié navorsing vanuit die gedeelde-lot-teorie (Ben-Porath 2013) benader. Die standpunt is ingeneem dat hoë werkloosheid alle Suid-Afrikaners negatief beïnvloed, al is hulle nie noodwendig werkloos nie, en dat ’n verhoging in selfgerigte werkskepping – moontlik gemaak deur entrepreneurskap in Verbruikerstudie – hierdie lot kan verbeter, veral vir leerders. Kwalitatiewe navorsingsmetodes is hoofsaaklik gebruik, tesame met numeriese inligting wat aangewend is om die kwalitatiewe data te rugsteun (bv. persentasies van onderwysers wat sekere kwalifikasies het, of onderrigmetodes wat vir entrepreneurskap gebruik word). Kwalitatiewe dokumentontleding is uitgevoer op die Verbruikerstudiekurrikulumdokument. Daarna is Verbruikerstudie-onderwysers regoor Suid-Afrika genooi om ’n aanlyn vraelys te voltooi, waarna fokusgroeponderhoude met opvolgvrae in elk van die nege provinsies gevoer is. Die studie het voldoen aan al die etiese vereistes wat die navorsingsetiekkomitee – onder wie se toesig die studie uitgevoer is – daarvoor gestel het, binne die voorskrifte van en met die toestemming van die Departement van Basiese Onderwys. Data-ontleding was grotendeels kwalitatief van aard.

4.2 Studiepopulasie en steekproef

Die populasie het uit alle Verbruikerstudie-onderwysers in Suid-Afrika bestaan. Presiese getalle kon nie bekom word nie, maar ongeveer 1 384 skole het ten tye van dié navorsing Verbruikerstudie as vak aangebied (Weston 2016). Die aanname is gemaak dat elke skool ten tyde van die studie minstens een Verbruikerstudie-onderwyser gehad het. Volgens Strydom (2005:193) is ’n steekproef van 10% voldoende om steekproeffoute te voorkom. Deur doelgerigte steekproefneming is gepoog om minstens 139 Verbruikerstudie-onderwysers te betrek om ’n aanlyn vraelys te voltooi. Verbruikerstudie-onderwysers wat aan die navorser bekend was, is aanvanklik genooi om die vraelys te voltooi. Hierdie onderwysers het op hulle beurt weer die uitnodiging aan ander onderwysers in die vak gerig (sneeubalsteekproefneming). Die vraelys is uiteindelik deur 166 Verbruikerstudie-onderwysers voltooi, wat sowat 12% van die populasie verteenwoordig.

Daarna is doelgerigte geriefsteekproefneming toegepas deur een Verbruikerstudie-onderwyser (wat reeds die vraelys voltooi het) in elk van Suid-Afrika se nege provinsies te nader om ’n fokusgroepsessie per provinsie te reël. Hierdie nege onderwysers het goedgunstiglik van hulle Verbruikerstudiekollegas genooi om aan die fokusgroep in elke provinsie deel te neem. Die aanbevole minimum getal deelnemers per groep – soos voorgestel deur Krueger en Casey (2015:23) – was vier deelnemers. Die fokusgroepsessies is vanaf Junie 2017 tot Augustus 2017 in die afsonderlike provinsies gehou, en ’n totaal van 87 deelnemers was betrokke, met ’n minimum van 4 en ’n maksimum van 23 deelnemers per fokusgroep.

4.3 Data-insamelingsmetodes

Gestruktureerde kwalitatiewe dokumentontleding is uitgevoer op die Verbruikerstudie-KABV (dié kurrikulum word tans in Suid-Afrikaanse skole gebruik) om vas te stel welke entrepreneurskapsinhoud in die bedoelde kurrikulum ingesluit is, asook hoe dit in dié dokument uiteengesit is.

Google Forms is gebruik om ’n aanlyn vraelys saam te stel bestaande uit ’n verskeidenheid van oop (bv. invul-) vrae en geslote (bv. veelvuldige keuse) vrae. Die doel van die vraelys was om uitvoerige inligting te bekom oor hoe Verbruikerstudie-onderwysers entrepreneurskap in die vak vertolk asook die praktyke wat hulle gebruik om dit te implementeer. Die geldigheid en betroubaarheid van die vrae is deur kenners in die veld geëvalueer en vooraf met ’n klein loodsondersoek getoets. Die versamelde inligting is deur middel van Google Forms in ’n Excel-dokument gestoor, waar dit verwerk en ontleed kon word.

Ná die vraelyste voltooi is, is ’n fokusgroepsessie in elke provinsie gehou. Die fokusgroepe was informeel en is gereël om deelnemers so ver as moontlik tegemoet te kom. ’n Lys oop opvolgvrae – met die doel om meer uitvoerige inligting oor Verbruikerstudie-onderwysers se praktyke rondom entrepreneurskap te bekom – is saamgestel en in elk van die fokusgroepe gebruik. Hierdie vrae is ook vooraf deur kenners ontleed en klein aanpassings is gemaak om onduidelikhede of moontlike vooroordeel uit te skakel. Die fokusgroeponderhoude is digitaal opgeneem (met deelnemers se toestemming) en woordeliks getranskribeer sodat die data ontleed kon word.

4.4 Data-ontleding

Gestruktureerde en opeenvolgende kwalitatiewe data-ontleding is uitgevoer. Entrepreneurskapsaspekte vervat in die Verbruikerstudiekurrikulum is ontleed ten opsigte van watter inhoud ingesluit is asook die posisionering daarvan in die dokument. Hierdie ontleding het veral insig gebied in die tipes entrepreneurskapsinhoud wat ingesluit is asook hoe dit saamgestel is en wat die bedoeling van die insluiting daarvan (bv. as doelwit of as vakinhoud) in die kurrikulum is.

Die vraelys se kwalitatiewe inhoud is aanvanklik per vraag gekodeer en ontleed om patrone in response te identifiseer, en daarna is dieselfde prosedure gevolg vir stelle verwante vrae (bv. al die vrae oor die keuse van onderrigmetodes). Die geslote vrae is met behulp van Excel-sagteware ontleed om byvoorbeeld persentasies of gemiddeldes vanuit numeriese inligting te bereken en ook om die data visueel met grafieke te kon voorstel.

Die transkripsies van die fokusgroeponderhoude is per vraag en per provinsie ontleed en kodes is toegewys om tendense en gebruike uit die data te identifiseer en ook om te bepaal of provinsies unieke of eenderse denkrigtings of neigings handhaaf. Laastens is die data van die kurrikulumontleding, vraelyste en fokusgroepe vergelyk om vas te stel waar entrepreneurskapsonderrig goed benader word en waar dit moontlik verbeter kan word sodat leerders meer daarby kan baat vind. Vir die data-ontleding is sommige kodes vooraf uit die literatuur geïdentifiseer (a priori), terwyl ander kodes uit die data (vraelyste en fokusgroeponderhoude) na vore gekom het (a posteriori). ’n Uiteensetting hiervan, asook van die gestruktureerde tematiese data-ontleding, is in tabel 2 ingesluit. Die kodes is algaande in kategorieë gegroepeer en het aanleiding gegee tot die finale drie temas wat gebruik is vir die rapportering van die bevindinge. 

Tabel 2. Ontwikkeling van temas uit data, kodes en kategorieë

 

5. Bevindinge

Die bevindinge word bespreek ooreenkomstig die drie navorsingsvrae: (1) Waar en tot watter mate is entrepreneurskap in die bedoelde kurrikulum vir Verbruikerstudie ingesluit?; (2) Hoe vertolk en implementeer Verbruikerstudie-onderwysers entrepreneurskapsonderrig in hulle daaglikse praktyk?; en (3) Hoe kan die potensiaal van die entrepreneurskapsonderrig wat in die Verbruikerstudiekurrikulum opgesluit is, uitgebrei word?

Ten einde die bespreking te vereenvoudig, word die volgende stelsel gebruik wanneer daar na fokusgroepdata verwys word: Die provinsie word afgekort tot twee letters, gevolg deur die nommer van die deelnemer. Byvoorbeeld, Deelnemer 2 van die Mpumalanga-fokusgroep word afgekort as MP2.

5.1 Bedoelde entrepreneurskapsonderrig in Verbruikerstudie

Die eerste verskyning van entrepreneurskap in die Verbruikerstudiekurrikulum is wanneer “kleinskaalproduksie, entrepreneurskap en bemarking van gehalte produkte” as een van die spesifieke doelwitte van die vak Verbruikerstudie gestel word (DBO 2011:9). Die hooftema entrepreneurskap gee ’n sinvolle, opsommende samevatting van die bedoelde entrepreneurskapsonderrig in die Verbruikerstudiekurrikulum in elke graad (DBO 2011:15).

Inleidende inhoud stel leerders in die derde kwartaal van graad 10 bekend aan teoretiese onderwerpe soos “Wat is entrepreneurskap?”, “[e]ienskappe van suksesvolle entrepreneurs”, en “[d]ie belangrikheid van entrepreneurskap vir die Suid-Afrikaanse ekonomie en gemeenskap” (DBO 2011:22). Ná hierdie bekendstelling word “kosteberekening” as ’n subtema van die hooftema entrepreneurskap onderrig. Die laaste twee weke van die vierde kwartaal in graad 10 fokus weer op entrepreneurskap met die direkte voorskrif dat hierdie teorie-inhoud moet “saamsnoer met die praktiese opsie” (DBO 2011:23). Twee subtemas struktureer hierdie inhoud, naamlik “[k]euse van items vir kleinskaalproduksie” en “[b]eplanning vir kleinskaalse produksie” (DBO 2011:23).

Die laaste vyf weke van die graad 11-werk in Verbruikerstudie handel weer oor entrepreneurskap (DBO 2011:30). Inhoud soos “[h]oe om ’n potensiële winsgewende besigheidsgeleentheid te identifiseer”, “[k]onseptoetsing en behoefte-identifisering” van marksegmente en teikengroepe, bemarkingstrategieë, en faktore wat produksiekoste en verkoopprys beïnvloed asook hoe om berekeninge vir beide te doen, word in daardie afdeling van die kurrikulum behandel.

Die eerste ses weke van die graad 12-Verbruikerstudiekurrikulum fokus op entrepreneurskap en bevat inhoud soos “[f]aktore om te oorweeg in die entrepreneur se keuse van ’n geskikte produk vir kleinskaalproduksie”, “[f]aktore wat die doeltreffende produksie van gehalte produkte beïnvloed”, “[v]ereistes vir gehalte produkte”, “[o]ntwikkel ’n bemarkingsplan” en “[s]kep ’n ‘beste verkope-scenario’ en ‘slegste verkope-scenario’” (DBO 2011:32). Verder word entrepreneurskap ook ingesluit in ’n formele projek vir graad 12-leerders waarin leerders ’n volledige “[i]mplementeringsplan vir die produksie en bemarking van ’n tuisgemaakte produk” moet opstel (DBO 2011:33).

Laastens is entrepreneurskap ook ingesluit as een van die fokusse in formele Verbruikerstudie-assessering. Die voorskrif is dat tussen 10% en 20% (afhangend van of dit vir graad 10-, graad 11- of graad 12-leerders is) van formele, geskrewe eksamenvraestelle oor entrepreneurskap moet handel (DBO 2011:64).

5.2 Verbruikerstudie-onderwysers se entrepreneurskapsonderrig in praktyk

Die gekombineerde ontleding van die vraelyste en fokusgroeponderhoude het die volgende bevindinge voorsien. Dit blyk dat 70% van die deelnemende Verbruikerstudie-onderwysers entrepreneurskap as deel van die vak as voordelig vir Suid-Afrika en as noodsaaklike onderrig beskou. Sommige deelnemers het ook entrepreneurskap direk verbind met werkskepping, soos dit blyk uit die volgende aanhaling: “So ek dink tog dit [entrepreneurskap] is iets wat daar moet wees veral in ons tyd waar daar nie werk is nie” (MP2).

Die meeste onderwysers het telkens na die KABV verwys en het grotendeels staatgemaak op die twee Verbruikerstudiehandboeke wat deur die Departement van Onderwys vir die vak goedgekeur is om entrepreneurskapsonderrig te ondersteun (figuur 2). Ongelukkig blyk dit dat sowat 28% van leerders (figuur 3) steeds nie hulle eie handboeke gehad het wat hulle huis toe kon neem nie.

Figuur 2. Hulpbronne gebruik vir entrepreneurskapsonderrig in Verbruikerstudie

Figuur 3. Beskikbaarheid van handboeke vir Verbruikerstudieleerders

Die antwoorde op verskillende vrae wat gehandel het oor die pedagogiese leiding wat aan Verbruikerstudie-onderwysers vir entrepreneurskapsonderrig voorsien is (al dan nie), was oorwegend “nee” – met ander woorde dat dit nie aangebied of beskikbaar was nie (figuur 4).

Figuur 4. Is pedagogiese leiding vir entrepreneurskapsonderrig beskikbaar?

Deelnemers is versoek om te spesifiseer watter onderrigmetodes hulle spesifiek vir entrepreneurskap gebruik het en hoe gereeld. Dit blyk dat onderwysers grotendeels inhoudsgebaseerde onderrigmetodes verkies het, in dalende volgorde gevolg deur lewenswerklike/ervaringsleer, probleemoplossingsmetodes, aktiewe leerstrategieë en leerdergesentreerde leer (figuur 5). Samewerkende leer word die minste deur deelnemende Verbruikerstudie-onderwysers vir entrepreneurskapsonderrig gebruik (figuur 5).

Figuur 5. Metodes wat deur Verbruikerstudie-onderwysers vir entrepreneurskapsonderrig gebruik word

Deelnemers is ook gevra hoe gereeld hulle entrepreneurskap doelbewus kombineer en assesseer het as deel van leerders se praktiese vervaardiging (produkte vir kleinskaalproduksie). Meer as die helfte van die deelnemers was van mening dat hulle net soms, ongereeld, of selfs nooit hierdie aspek by praktiese Verbruikerstudie-assessering ingesluit het nie (figuur 6).

Figuur 6. Hoe gereeld onderwysers die toepassing van entrepreneurskap in praktiese vervaardiging assesseer

Ander deelnemers het genoem dat hulle gereeld (36%) of selfs baie gereeld (11%) entrepreneurskap as deel van praktiese lesse assesseer het. Dit is ook bevestig deur kommentaar wat uit die vraelyste gespruit het, soos die volgende aanhaling deur Vraelysdeelnemer 8:

I feel it is very important to make the learners aware of how the entrepreneurship education and the practical component is linked and related to each other, in that they are learning invaluable life skills that can make them self-sufficient in their futures and could eliminate their fear of unemployment.

[Ek voel dit is baie belangrik om leerders attent te maak op hoe entrepreneurskapsonderrig en die praktiese afdeling geskakel en verwant aan mekaar is, deurdat hulle waardevolle lewensvaardighede leer wat hul onafhanklik kan maak in die toekoms en hul vrese oor werkloosheid kan besweer.]

’n Paar hindernisse wat die positiewe moontlikhede van entrepreneurskapsonderrig in Verbruikerstudie moontlik tot niet kan maak as dit in die praktyk realiseer, is as sodanig gekodeer tydens die ontleding van die vraelyste en kommentaar gelewer in die fokusgroepe, en word vervolgens bespreek.

5.3 Hindernisse vir die doeltreffende implementering van entrepreneurskapsonderrig in Verbruikerstudie-onderrigpraktyk

Ongelukkig het min onderwysers opleiding met die oog op entrepreneurskapsonderrig ontvang. Meer as twee derdes van die deelnemers (69%) het genoem dat hulle geen formele opleiding vir die onderrig of aanbied van entrepreneurskap ontvang het nie (figuur 7). Verskeie deelnemers wat wel opleiding vir entrepreneurskapsonderrig ontvang het, het tydens die fokusgroeponderhoude genoem dat dit ontoereikend of beperk was (OK12; VS8; GP5; LP2; MP2; MP3; NK1; WK7; WK8).

Figuur 7. Het u enige opleiding vir entrepreneurskapsonderrig ontvang?

Hulpbronne vir die onderrig van Verbruikerstudie is seldsaam, dikwels duur en nie alle skole het gelyke toegang tot al die hulpbronne nie. Skole het ongelyke toegang tot finansiële hulpbronne, wat ’n beperking plaas op leerders se entrepreneurskapsontwikkeling. Een deelnemer uit die Vrystaat (FS13) het hierdie punt soos volg gestel:

[S]chools where the money is not as much, the options you have for the practical is less … so it’s limiting the learners.

[In skole met min geld is daar minder keuses vir praktiese lesse en dit lê die leerders aan bande (FS13).]

Hierdie beperking is dikwels gekoppel aan die bestanddele of materiale wat vir praktiese lesse aangekoop moet word, byvoorbeeld:

[A]s ons die groot prakties het, die PAT 1 en 2, daar koop ons vir die kinders bestanddele aan, want anders moet hulle alles self van die huis af bring (WK8).

Nie net word leerders se ontwikkeling beperk nie, maar dit verlaag ook onderwysers se motivering om Verbruikerstudie aan te bied:

[T]eachers who are in those situations are not very motivated ...

[Onderwysers in sulke omstandighede (skole waar min geld is) is nie baie gemotiveerd nie (KZ4).]

Onderwysers was van mening dat daar min onderrig-leerhulpmiddels beskikbaar was om onderrig in Verbruikerstudie te steun buiten vir die twee handboeke. Sommige deelnemers het ook gemeld dat die entrepreneurskapsinhoud in die beskikbare handboeke ontoereikend was: “Ek dink die handboek kort definitief meer [entrepreneurskaps-] inligting” (MP3). Hierdie negatiewe toedrag van sake word verder verswaar deur gebrekkige en onstabiele internettoegang wat verskeie skole steeds ervaar. Dit ontneem onderwysers van ’n groot aantal moontlike hulpbronne wat hulle sou kon gebruik (soos videogrepe, resepte of voorbeelde) en dwing onderwysers om ander hulpmiddels te vind om hulle onderrig te rugsteun, of om hulle eie internetdata (waarvoor hulle self betaal) te gebruik om die leerders in hulle klasse se onderrig te ondersteun waar nodig.

Aangesien die praktiese deel van Verbruikerstudie formeel geassesseer word, en om te voldoen aan die land se veiligheidswette, word die getal leerders wat tegelyk aan praktiese lesse mag deelneem beperk – veral in praktiese lesse in voedselvervaardiging, waar die leerdertal tot 32 leerders beperk word (DBO 2011:9). Party deelnemers het genoem dat hulle ’n groot getal leerders in een klas het – selfs soveel as 40 leerders of meer tegelyk (figuur 8) – wat nie ideaal is vir onderrig nie, maar veral in praktiese klasse gevaarlik kan wees.

Figuur 8. Getal leerders per Verbruikerstudieklas deur deelnemende onderwysers gerapporteer

Nog ’n hindernis wat verband hou met praktiese vervaardiging waarna heelparty deelnemers verwys het, is die gebrekkige kulturele tersaaklikheid van die produkte wat leerders in veral die voedselproduksieklas maak. In die woorde van een van die fokusgroepdeelnemers:

Dit is ook baie keer … produkte wat hulle nie regtig ken nie, soos daai choux-deeg … As jy sê ’n éclair – hulle het nie ’n idee wat dit is nie … Party kinders het glad nie daai blootstelling of hulle weet partykeer nie eers wat is die goed nie (MP1).

Alhoewel leerders sekere praktiese tegnieke moet bemeester, is die produkte wat hulle moet maak soms vir hulle vreemd en nie lewensrelevant nie, wat waarskynlik hulle motivering om so ’n produk as ’n entrepreneuriese geleentheid te ontwikkel, sal kortwiek.

Laastens het die gebrekkige taalvaardighede van leerders ook dikwels na vore gekom as ’n hindernis wat entrepreneurskapsonderrig (en ander leerprosesse) beperk. Heelparty onderwysers het gekla dat leerders se taalvaardighede swak ontwikkel is en ontoereikend is om leer te ondersteun, byvoorbeeld: “[H]ulle [leerders] kan nie lees nie … [H]ulle het nie ’n leesbegrip nie” (MP5). Dit het verder geblyk dat gebrekkige taalvaardighede ook leerders se prestasie in formele assessering ondermyn, soos vervat in die volgende twee aanhalings: “Die gevallestudies is baie moeilik …” (MP3), en

Another problem with entrepreneurship … is the higher cognitive questions … [T]he learners must be able to read the case study and analyse the questions step by step before answering it.

[Nog ’n probleem in entrepreneurskap is die hoërorde-vrae wat leerders in die gevallestudie moet kan lees en dan die vrae stapsgewys moet kan ontleed voordat hulle dit beantwoord (EC12).]

 

6. Bespreking en gevolgtrekkings

Vervolgens word die bevindinge in die lig van die teoretiese raamwerk bespreek en gevolgtrekkings word daarvolgens gemaak.

6.1 Entrepreneurskap in die bedoelde kurrikulum vir Verbruikerstudie

Die posisionering van entrepreneurskap in sekere afdelings van ’n kurrikulum onderskryf die doel daarvan. Met ander woorde: Is dit vervat in die vakdoelwitte (wat ’n mate van belangrikheid daaraan verleen), of bloot as leerinhoud, of word dit ook belangrik genoeg geag om spesifiek in formele assessering uitgelig te word? Thijs en Van den Akker (2009:12) verduidelik dat vakspesifieke doelwitte verduidelik wat die vak moet bereik of wat die uitsonderlike doel daarvan is. Die insluiting van entrepreneurskap as deel van die vakspesifieke doelwit “kleinskaalproduksie, entrepreneurskap en bemarking van gehalte produkte” (DBO 2011:23) in Verbruikerstudie toon onomwonde dat entrepreneurskap belangrike leerinhoud in Verbruikerstudie is en dat die bedoeling is dat die produkte wat leerders in die vak maak, gebruik kan word as ’n wegspringpunt om entrepreneurskap van leerders te bevorder ten einde ’n kleinskaalse besigheid te begin. Dit word ook in die onderrigplan van die kurrikulum uitgelig as ’n direkte voorskrif dat teoretiese entrepreneurskapsinhoud met die praktiese vervaardiging in die vak gekoppel moet word. Die meer as 16 weke van die totale onderrigtyd in die vak wat aan entrepreneurskapsonderrig gewy word, beklemtoon verder die belangrikheid van hierdie tema in Verbruikerstudie. Laastens word dit as positief beskou dat entrepreneurskap nadruklik ingesluit word as deel van die temas wat formeel geassesseer word in al drie grade van die Verdere Onderwys- en Opleidingsfase, wat die meriete van die tema vir leerders en onderwysers beklemtoon. Die gevolgtrekking kan gemaak word dat entrepreneurskap ’n belangrike aspek van Verbruikerstudie-onderrig is en dat dit onlosmaaklik vervleg is met praktiese vervaardiging in Verbruikerstudie. Hierdie vervlegte benadering skep ’n verskeidenheid geleenthede vir leerders om produkte te beplan, ontwikkel en bemark as deel van pogings om selfgerig werk te skep. Die kurrikulum vir Verbruikerstudie sluit dus indrukwekkende positiewe moontlikhede in om die werkloosheidslot van leerders te verlig, deur hul toe te rus en te motiveer met bruikbare en lewenstoepaslike entrepreneurskapsinhoud.

6.2 Die implementering van entrepreneurskap in die Verbruikerstudiekurrikulum

Steenekamp (2013:167) is van mening dat die vestiging van ’n positiewe houding jeens entrepreneurskap die beginpunt is vir doeltreffende entrepreneurskapsonderrig. Onderwysers se positiewe houding jeens die waarde van entrepreneurskap in die vak Verbruikerstudie, sowel as vir Suid-Afrika, word gevolglik as voordelig beskou. Hulle kan insien dat entrepreneurskapsonderrig tot selfgerigte werkskepping kan bydra om die werkloosheidslot van leerders te verlig. Leerders sal hulle onderwysers se positiewe houding teenoor entrepreneurskap ervaar en miskien dieselfde positiewe houding daarteenoor ontwikkel en hopelik ook die waarde van entrepreneurskap as moontlike bydraer tot die vermindering van werkloosheid begin waardeer. Entrepreneurskapsonderrig kan egter nie slegs staatmaak op positiewe houdings nie, maar vereis ook bruikbare onderrighulpmiddels om die onderrig-leerproses te rugsteun.

Aangesien daar min ander hulpmiddels is om hulle entrepreneurskapsonderrig mee te rugsteun, maak onderwysers swaar staat op die twee vakspesifieke handboeke wat vir Verbruikerstudie goedgekeur is (figuur 2). Hierdie praktyk is ooreenkomstig die kommentaar van ’n Suid-Afrikaanse ministeriële taakspan (Dada, Dipholo, Hoadley, Khembo, Muller en Volmink 2009:9) – wat ten doel gehad het om probleme met die implementering van die land se kurrikulum te ontleed – dat handboeke die beste hulpbron is om konsekwentheid, dekking van leerinhoud en gehalte onderrig vir die implementering van ’n kurrikulum te verseker. Ongelukkig ervaar sommige onderwysers die beskikbare handboeke se entrepreneurskapsinhoud as ontoereikend in sekere aspekte en het nie alle leerders ’n handboek wat hulle kan gebruik om hulle leer in die vak te rugsteun nie (figuur 3). Die handboeke word ook nie beskou as bydraend tot die voorkeur aktieweleerstrategie vir entrepreneurskapsonderrig nie, soos blyk uit die volgende kommentaar tydens een van die fokusgroepsessies:

[I]n all of the textbooks there’s not a lot of practical things that they can actually do ...

[In al die handboeke is daar nie baie praktiese dinge wat leerders kan doen nie ... (EC6).]

Die huidige handboeke bied dus nie noodwendig leerervarings wat sterk belyn is met leerders se lewenswerklike situasies nie. Gevolglik is daar ’n dringende behoefte aan die hersiening van die Verbruikerstudiehandboeke, asook die ontwikkeling en beskikbaarstelling van addisionele onderrig-leerhulpmiddels in die vak, veral vir entrepreneurskap, waarby onderwysers en leerders baat sal vind.

Die ontwikkeling van beter onderrighulpmiddels en meer volledige handboeke sal ook help om die gaping van gebrekkige pedagogiese leiding beskikbaar vir Verbruikerstudie-onderwysers (figuur 4) te oorbrug deur die voorsiening van ’n verskeidenheid bronne wat onderwysers kan raadpleeg as deel van hulle voorbereiding. Onderrighulpmiddels is volgens Booyse en Du Plessis (2014:74) die “draers” van die kurrikulum – met ander woorde, dit rugsteun die implementering van die bedoelde kurrikulum. Die feit dat Verbruikerstudie-onderwysers gereeld die KABV (die bedoelde kurrikulum) raadpleeg (figuur 3) dui daarop dat die kurrikulum eintlik die ideale dokument is om vakspesifieke pedagogiese leiding vir Verbruikerstudie-onderwysers te voorsien en gevolglik behoort toekomstige kurrikulumaanpassings hieraan aandag te skenk.

Goed beplande hulpmiddels tesame met vakspesifieke pedagogiese leiding behoort ook die implementeringspraktyke van onderwysers in die vak weg te beweeg van eenrigting inhoudsoordrag, wat tans die norm blyk te wees vir entrepreneurskapsonderrig in Verbruikerstudie (figuur 5). Inhoudsgebaseerde onderrig is nie geskik vir entrepreneurskapsonderrig nie, en deur leiding en meer onderrighulpmiddels aan onderwysers te voorsien, sal hulle in die aktiewe, leerdergesentreerde onderrigbenaderings wat vir entrepreneurskapsinhoud verkies word, gesteun word. Alhoewel die Verbruikerstudiekurrikulum poog om geldige, regte wêreldse ervaringsleer in te sluit – onder meer wanneer leerders moet leer watter faktore oorweeg moet word om ’n produk vir ’n spesifieke teikenmark te ontwikkel, of hoe om “werksvloei aan te pas om ’n produk vir kleinskaalproduksie te lewer” (DBO 2011:23) – is onderwysers nie opgelei of toegerus om die lewenswerklike leer wat vir entrepreneurskapsonderrig vereis word doeltreffend te implementeer nie. Daar is gevolglik ’n ernstige behoefte aan die ontwikkeling, aanbieding en beskikbaarstelling van vakgerigte en inhoudspesifieke (vir entrepreneurskap) pedagogiese leiding vir Verbruikerstudie-onderwysers.

Die gebrek aan pedagogiese leiding ten opsigte van entrepreneurskapsonderrig is waarskynlik ook die rede waarom Verbruikerstudie-onderwysers nie entrepreneurskap doeltreffend assesseer as deel van die leerders se praktiese vervaardiging nie (figuur 6). Assessering is ’n kernaspek van entrepreneurskapsonderrig wat help verseker dat die beplande doelwitte wel bereik word (Wilson e.a. 2009:11). Assessering in entrepreneurskap behoort meer as net inhoudsleer te dek; dit behoort ook te voldoen aan vaardigheidsontwikkeling, veranderinge in houdings, en die belyning van die uitkomste (bv. ’n produk of diens) met die voorsiening in die behoeftes van andere (bv. die teikenmark of gemeenskap) (Valliere, Gedeon en Wise 2014:100). Sulke uitgebreide assessering sal bydra tot die verligting van die werkloosheidslot van nie net leerders wat self werk skep nie, maar ook van ander Suid-Afrikaners. Die Verbruikerstudiekurrikulum (DBO 2011:32) sluit hierdie bedoeling duidelik in as deel van entrepreneurskapsonderrig, soos blyk uit die volgende graad 12-leerinhoud:

Faktore om te oorweeg in die entrepreneur se keuse van ’n geskikte produk vir kleinskaalproduksie: die beskikbaarheid van menslike vaardighede, finansiële hulpbronne, beskikbare werkspasie, beskikbare grondstowwe (plaaslik beskikbaar) en aantrekkingskrag vir verbruikers.

Praktiese vervaardiging bied aan leerders ideale geleenthede om uit hulle foute te leer en gevolglik produkte te verbeter, meer uitsonderlik te maak, of nader aan die vereistes van die verbruiker te bring. Ongelukkig verwesenlik die doel van praktiese vervaardiging nie heeltemal nie, want die assessering van produkte en vaardighede is ontoereikend, en gevolglik bereik die volle voordeel van hierdie beplande leer nie die leerders nie. Die pedagogiese leiding wat vir Verbruikerstudie-onderwysers ontwikkel word, behoort ook die beplande en doeltreffende assessering van entrepreneurskap in te sluit, maar dit moet veral uiteensit hoe entrepreneurskap as deel van die praktiese lesse ontwikkel en geassesseer behoort te word.

Uit die voorafgaande bespreking en gevolgtrekkings blyk dit duidelik dat beperkte onderrighulpmiddels asook ontoereikende onderwysersopleiding (figuur 7) en gebrekkige pedagogiese leiding die doeltreffende implementering van entrepreneurskapsonderrig in Verbruikerstudie beperk, wat die verligting van die leerders se werkloosheidslot stuit. Vervolgens word die drie ander hindernisse (finansiële beperkinge, klasgroottes en leerders se taalvaardighede) wat uit die ondersoek gespruit het, ook bespreek.

6.3 Hindernisse wat die doeltreffende implementering van entrepreneurskapsonderrig in Verbruikerstudie beperk

Die ongelyke toegang tot finansiële hulpbronne plaas swaar beperkinge op veral die praktiese take wat deur leerders uitgevoer word. Wanneer skole nie bestanddele of materiale vir praktiese take kan (of wil) aankoop nie, word leerders versoek om dit van die huis af te bring. Die hoë werkloosheidsyfer en dikwels lae inkomste in Suid-Afrika het tot gevolg dat ouers nie aan leerders se versoeke om hulp met bestanddele of materiale kan voldoen nie. Daarsonder vind die praktiese lesse bloot nie plaas nie, soos een deelnemer verduidelik het:

You’ll find that as money will be a problem in a school, they might be doing one practical per term … Some of the skills might be lacking and this can be brought up by lack of resources.

[Wanneer geld by ’n skool ’n probleem is, doen hulle (leerders) miskien een praktiese les per kwartaal … Sommige vaardighede kan moontlik ontbreek as gevolg van ’n gebrek aan hulpbronne (LP2).]

As in ag geneem word dat die Verbruikerstudiekurrikulum 12 praktiese lesse per jaar vir graad 10 en 11 leerders voorskryf, en ses praktiese lesse vir graad 12-leerders (DBO 2011:10, 39–42), dui dit op ’n ernstige probleem. Vir elke praktiese les wat leerders nie uitvoer nie, is daar ’n stel praktiese vaardighede wat nie ontwikkel word nie. Leerders se keuses van produkte wat moontlik in entrepreneuriese geleenthede omskep kan word, word gevolglik al hoe minder. Die keuses van produkte wat ontwikkel kan word om selfgerig werk te skep, word dus beperk. Gevolglik is dit van uiterste belang dat die finansiële ondersteuning van die vak Verbruikerstudie noukeurig beplan en bestuur moet word om te verseker dat alle leerders in die vak volle blootstelling aan ’n verskeidenheid entrepreneuriese geleenthede kan kry.

Nog ’n hindernis in die uitvoer van praktiese lesse – en dus vir entrepreneurskapsonderrig – is uitermatige groot klasgroepe: Wanneer ’n groot aantal leerders gelyktydig praktiese take moet uitvoer, raak die bestuur daarvan moeilik (Dada e.a. 2009:59) en selfs gevaarlik. Om dié rede vereis die Verbruikerstudiekurrikulum dat ’n maksimum van 32 leerders tegelyk prakties mag doen (DBO 2011:9), maar die bevindinge dui daarop dat skoolhoofde dikwels nie gehoor hieraan gee nie en dat daar steeds skole is met klasse wat heeltemal te veel leerders bevat om sinvolle praktiese lesse toe te laat (figuur 8). Dis te betwyfel of leerders in sulke groot klasse werklik die volle waarde van die moontlike entrepreneurskapsonderrig wat met die praktiese take gekoppel is, sal ervaar, aangesien dit nie doeltreffend uitgevoer kan word in so ’n samedromming nie. Verder bevestig die ministeriële taakspan ook dat sulke groot klasse beide informele en formele assessering kniehalter, wat leerders in daardie klasse nog verder benadeel (Dada e.a. 2009:59). Die implementering van die kurrikulumvereistes ten opsigte van die aantal leerders wat praktiese lesse op dieselfde tydstip mag doen, behoort gevolglik met meer sorg nagekom te word.

Laastens, en nog ’n hindernis wat assessering van leerders – en daarmee saam hulle entrepreneurskapsonderrig – negatief beïnvloed, is die gebrekkige taalvaardighede van baie leerders. Die feit dat daar 12 amptelike tale (gebaretaal ingesluit) in Suid-Afrika is – waaronder slegs twee (Engels en Afrikaans) as formele onderrigtale in hoërskole gebruik word – dra by tot hierdie probleem. Statistieke Suid-Afrika (2016:39) rapporteer dat byna ’n kwart van Suid-Afrikaners (24,6%) se huistaal Zulu is en 17% van mense se hooftaal Xhosa is, maar dat slegs 8,3% van die bevolking tuis Engels as voertaal gebruik en slegs 12,1% van Suid-Afrikaners Afrikaans praat. Leerders (en onderwysers) word dus gedwing om in ’n tweede of selfs derde taal vakinhoud van (byvoorbeeld) Verbruikerstudie te bemeester. Alle handboeke en hulpmiddels is verder slegs in Engels en (soms) in Afrikaans beskikbaar, en leerders sukkel om vaktaal of vakspesifieke terme onder die knie te kry. Leerders wat sukkel met basiese lees- en skryfvaardighede (omdat hul “leertaal” van hulle spreektaal verskil) sal nog meer met gevorderde of uitdagende kognitiewe aktiwiteite of assesserings sukkel – byvoorbeeld wanneer hulle ’n leesstuk moet ontleed.

Bogenoemde vraagstuk is deur Booyse en Du Plessis (2014:33) uitgelig in hulle beklemtoning van die uiters belangrike verwantskap tussen taal en begrip – wat leerders toelaat om hulle gedagtes in woorde as deel van kenniskonstruksie te kan omskakel. Die herhaaldelike opduiking van hierdie vraagstuk in die navorsing beteken dat onderwysers van die probleem bewus is en dat dit wyd voorkom. Gevolglik sal dit sin maak om planne te beraam en in gereedheid te bring om hierdie taalvraagstuk te probeer aanroer deur leerders se spreektaalterme te vergelyk met die ooreenstemmende Engelse (of soms Afrikaanse) terminologie. In Verbruikerstudie kan daar byvoorbeeld plakkate ontwerp word met foto’s van goeie gehalte produkte waarby beide die Engelse term en die term in leerders se huistaal weerspieël word. Só kan leerders mettertyd ’n breër spektrum van vakterme aanleer, wat hulle in die onderrig-leerproses sal ondersteun. Dit sal natuurlik ook bydra tot doeltreffender entrepreneurskapsonderrig, veral in gevalle waar baie abstrakte terme baasgeraak moet word. Die leerders sal sodoende beter toegerus wees; nie net vir selfgerigte werkskepping nie, maar ook vir die arbeidsmark en vir die verligting van die huidige betreurenswaardige werkloosheidslot van Suid-Afrikaners.

In die lig van die bevindinge en gevolgtrekkings word ’n paar aanbevelings vervolgens gemaak sodat die entrepreneurskapspotensiaal wat in die vak Verbruikerstudie opgesluit is, tot groter voordeel van leerders in praktyk geïmplementeer kan word.

 

7. Aanbevelings

Die twee stelle Verbruikerstudiehandboeke wat deur die Departement goedgekeur is behoort gereeld hersien te word ten einde konsekwentheid, gehalte en tersaaklikheid van inhoud aan te moedig. Bygewerkte en volledige handboeke sal onderwysers en leerders in die onderrig-leerproses, wat ook entrepreneurskapsonderrig insluit, onderskraag.

Pedagogiese leiding vir en opleiding van Verbruikerstudie-onderwysers vir entrepreneurskapsonderrig moet beskikbaar gestel word. Beter opgeleide en bekwame onderwysers behoort entrepreneurskapsonderrig met groter sukses tot voordeel van die leerders te implementeer. Pedagogiese leiding – met ander woorde duidelike riglyne om spesifieke inhoud sinvol en doeltreffend te onderrig – kan in die Verbruikerstudie-KABV ingesluit word wanneer die kurrikulum hersien word, aangesien onderwysers hierdie dokument gereeld gebruik. Enige opleidingsprogramme wat spesifiek vir Verbruikerstudie-onderwysers vir entrepreneurskapsonderrig saamgestel word, behoort inhoudelike kennis, pedagogiese leiding, sowel as assesseringsriglyne – spesifiek van toepassing op entrepreneurskapsontwikkeling van leerders tydens praktiese lesse – in te sluit.

’n Verskeidenheid onderrig-leerhulpmiddels – in ’n kombinasie van Suid-Afrikaanse voertale (wat Engels insluit) – moet dringend ontwikkel word om onderwysers te ondersteun in die implementering van die entrepreneurskapsonderrig (en ander inhoud) in die vak. Sulke hulpmiddels kan ook bydra tot die verbetering van leerders se taalvaardigheid en gebruik van vaktaal.

Laastens word twee aanbevelings spesifiek vir die bestuur van skole gemaak. Eerstens word aanbeveel dat bestuursrade gehoor sal gee aan die vereistes in die kurrikulum gestel dat groot groepe leerders nie gelyktydig in praktiese klasse toegelaat mag word nie ten einde die veiligheid van leerders te verseker. Tweedens word aanbeveel dat beheerliggame noukeurig finansieel sal beplan en bestuur (as Verbruikerstudie by ’n skool aangebied word) sodat daar begroot word en fondse vir leerders beskikbaar is wat sodanige leerders in staat sal stel om al die praktiese take wat in die kurrikulum voorgeskryf word, te kan uitvoer. Die ondersteuning van die Departement van Basiese Onderwys sal grootliks bydra tot die sukses van die uitvoer van albei hierdie aanbevelings.

Deur bovermelde aanbevelings te implementeer behoort entrepreneurskapsonderrig as deel van Verbruikerstudie-onderrig meer doeltreffend te word, wat dan vir leerders meer geleenthede sal bied om selfgerig werk te skep om sodoende die werkloosheidslot te verlig.

 

8. Algemene gevolgtrekking

Entrepreneurskapsonderrig is ’n belangrike tema in Verbruikerstudie wat uniek en onlosmaaklik vervleg is met praktiese vervaardiging in dié vak en kan hierdeur ’n positiewe bydrae lewer tot die ontwikkeling van leerders se selfgerigte werkskepping. Die positiewe potensiaal van die entrepreneurskapsonderrig vervat in Verbruikerstudie kan uitgebrei word deur klein veranderinge aan te bring in die implementering van die bedoelde kurrikulum. Die voorsiening van bygewerkte en taalondersteuningshulpbronne (handboeke inkluis), asook pedagogiese leiding vir en opleiding van onderwysers ― spesifiek gerig op entrepreneurskapsontwikkeling ― wat gebruik word om entrepreneurskapsonderrig te rugsteun, sal bydra tot die bevordering van leerders se selfgerigte werkskepping en kan die werkloosheidslot van menigte Suid-Afrikaanse leerders verlig.

 

Bibliografie

Ahmed, A. (red.). 2012. World sustainable development outlook 2012: Change, innovate and lead for a sustainable future. Brighton: World Association for Sustainable Development (WASD).

Allen, D. en R. Eich (reds.). 2013. Education, justice and democracy. Chicago: University of Chicago Press.

Ben-Porath, S. 2013. Education for shared fate citizenship. In Allen en Eich (reds.) 2013.

Berglund, K. en K. Verduijn (reds.). 2018. Revitalizing entrepreneurship education: Adopting a critical approach in the classroom. New York: Routledge.

—. 2018. Introduction: Challenges to entrepreneurship education. In Berglund en Verduijn (reds.) 2018.

Booyse, C. en E. Du Plessis. 2014. Curriculum studies: Development, interpretation, plan and practice. 2de uitgawe. Pretoria: Van Schaik.

Dada, F., T. Dipholo, U. Hoadley, E. Khembo, S. Muller en J. Volmink. 2009. Verslag van die taakspan vir die hersiening van die implementering van die Nasionale Kurrikulumverklaring (Report of the task team for the review of the implementation of the National Curriculum Statement). Pretoria: Departement van Onderwys.

Davidow, M. 2015. Just follow the yellow brick road: A manager’s guide to implementing value creation in your organization. Journal of Creating Value, 1(1):23–32.

DBO (Departement van Basiese Onderwys). 2011. Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring: Verbruikerstudie, VOO-fase. Pretoria: Staatsdrukker.

De Vos, A.S., H. Strydom, C.B. Fouché en C.S.L. Delport (reds.). 2005. Research at grass roots: For the social sciences and human service professions. Pretoria: Van Schaik.

Deense Stigting vir Entrepreneurskap. 2017. Entrepreneurship in the teaching. https://eng.ffe-ye.dk (20 November 2019 geraadpleeg).

Department of Basic Education. 2011. Curriculum and Assessment Policy Statement: Consumer Studies, FET Phase. Pretoria: Government Printers.

Deveci, I. en J. Seikkula-Leino. 2015. Entrepreneurship in Finnish teacher training. The International Journal of Research in Teacher Education, 6(3):24–39.

Do Paço, A.M.F., J.M. Ferreira, M. Raposo, R.G. Rodrigues en A. Dinis. 2011. Behaviours and entrepreneurial intention: Empirical findings about secondary students. Journal of International Entrepreneurship, 9(1):20–38.

Du Toit, A. en E.L. Kempen. 2018. The potential contribution of the intended high school curriculum at exit level to the entrepreneurship education of South African youth. International Journal of Entrepreneurship, 22(1):1–16.

Du Toit, A. en M. Gaotlhobogwe. 2018. A neglected opportunity: Entrepreneurship education in the lower high school curricula for technology in South Africa and Botswana. African Journal of Research in Mathematics, Science and Technology Education, 22(1):37–47. DOI: 10.1080/18117295.2017.1420007 (18 November 2019 geraadpleeg).

Ekpiken, W.E. en G.U. Ukpabio. 2015. Entrepreneurship education, job creation for graduate employment in South-South geopolitical zone of Nigeria. British Journal of Education, 3(1):23–31.

Entrepreneurship 2020 Unit. 2014. Entrepreneurship education: A guide for educators. Brussel: Directorate-General Enterprise and Industry, Europese Kommissie.

Fayolle, A. en B. Gailly. 2008. From craft to science: Teaching models and learning processes in entrepreneurship education. Journal of European Industrial Training, 32(7):569–93.

Hägg, G. en A. Kurczewska. 2016. Connecting the dots: A discussion on key concepts in contemporary entrepreneurship education. Education + Training, 58(7/8):700–14.

Huq, A. en D. Gilbert. 2017. All the world’s a stage: Transforming entrepreneurship education through design thinking. Education + Training, 59(2):155–70.

Koekemoer, A. en C. Booyse. 2013. Lost entrepreneurship opportunities: The crisis in Consumer Studies education. In Zulu en Kwayisi (reds.) 2013.

Krueger, R.A. en M.A. Casey. 2015. Focus groups. A practical guide for applied research. 5de uitgawe. Singapoer: Sage.

Lackéus, M. 2016. Value creation as educational practice: Towards a new educational philosophy grounded in entrepreneurship? PhD-proefskrif, Chalmers Universiteit van Tegnologie, Gotenburg, Swede.

Malerba, F. en M. McKelvey. 2019. Knowledge-intensive entrepreneurship. Foundations and Trends in Entrepreneurship, 14(6):555–681.

Maritz, A. 2017. Illuminating the black box of entrepreneurship education programmes: Part 2. Education + Training, 59(5):471–82.

Meintjes, A., A. Henrico en J. Kroon. 2015. Teaching problem-solving competency in Business Studies at secondary school level. South African Journal of Education, 35(3):1–11.

Mwasalwiba, E.S. 2010. Entrepreneurship education: A review of its objectives, teaching methods, and impact indicators. Education + Training, 52(1):20–47.

Ndedi, A.A. 2012. Challenges and perspectives facing the development of entrepreneurship education and training in South Africa. In Ahmed (red.) 2012.

Powell, B.C. 2013. Dilemmas in entrepreneurship pedagogy. Journal of Entrepreneurship Education, 16:99–112.

Rasmussen, A., K. Moberg en C. Revsbech. 2015. A taxonomy of entrepreneurship education: Perspectives on goals, teaching and evaluation. https://eng.ffe-ye.dk/media/785766/taxonomy-en.pdf (9 September 2017 geraadpleeg).

RSA (Republiek van Suid-Afrika). 1996. Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996. Pretoria: Staatsdrukker.

Ruskovaara, E. 2014. Entrepreneurship education in basic and upper secondary education: Measurement and empirical evidence. PhD-proefskrif, Lappeenranta Universiteit van Tegnologie, Finland.

Rusok, N.H.M., N. Kumar en S.M.A. Rahman. 2017. A contemporary approach to entrepreneurship education and training. International Journal of Asian Social Science, 7(8):696–707.

Sirelkhatim, F. en Y. Gangi. 2015. Entrepreneurship education: A systematic literature review of curricula contents and teaching methods. Cogent Business & Management, 2:1052034. http://dx.doi.org/10.1080/23311975.2015.1052034 (18 November 2019 geraadpleeg).

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA). 2016. Community survey in brief. Report 03-01-06. http://cs2016.statssa.gov.za/?portfolio_page=cs-2016-in-brief (5 Januarie 2019 geraadpleeg).

Steenekamp, A.G. 2013. An assessment of the impact of entrepreneurship training on the youth in South Africa. PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit.

Strydom, H. 2005. Sampling and sampling methods. In De Vos, Strydom, Fouché en Delport (reds.) 2005.

Thijs, A. en J. van den Akker. 2009. Curriculum in development. Enschede: Netherlands Institute for Curriculum Development (SLO).

Trading Economics. 2019. South Africa Youth unemployment rate. https://tradingeconomics.com/south-africa/youth-unemployment-rate (25 November 2019 geraadpleeg).

Tremblay, M., S. Brière, A. Daou en G. Baillargeon. 2013. Are Northern practices for supporting entrepreneurs transferable to the South? Lessons from a Canadian experience in South Africa. The International Journal of Entrepreneurship and Innovation, 14(4):269–79.

Umalusi. 2014. What’s in the CAPS package? Consumer Studies. Pretoria: Umalusi Council for Quality Assurance in General and Further Education and Training.

Valerio, A., Parton, B. en Robb, A. 2014. Entrepreneurship education and training programs around the world: Dimensions for success. Washington, DC: World Bank. DOI: 10.1596/978-1-4648-0202-7.

Valliere, D., S.A. Gedeon en S. Wise. 2014. A comprehensive framework for entrepreneurship education. Journal of Business & Entrepreneurship, 26(1):89–120.

Weston, C. (Voormalige adjunkdirekteur van Diensvakke, Departement van Basiese Onderwys). 2016. Die aantal Verbruikerstudie-onderwysers in Suid-Afrikaanse skole. Persoonlike kommunikasie (e-pos).

Wilson, K.E., S. Vyakarnam, C. Volkmann, S. Mariotti en D. Rabuzzi. 2009. Educating the next wave of entrepreneurs: Unlocking entrepreneurial capabilities to meet global challenges of the 21st century. A report of the Global Education Initiative, April 2009. Genève, Switserland: World Economic Forum.

York, J.G., I. O’Neil en S.D. Sarasvathy. 2016. Exploring environmental entrepreneurship: Identity coupling, venture goals, and stakeholder incentives. Journal of Management Studies, 53(5):695–737.

Zulu, C.B. en F.N. Kwayisi (reds.). 2013. Building sustainable education for the Southern African sub-continent. 40th Annual International Conference of the Southern African Society for Education, Mafikeng, South Africa.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Entrepreneurskapspotensiaal: ’n Ontleding van die Suid-Afrikaanse Verbruikerstudiekurrikulum en -onderwyspraktyke  appeared first on LitNet.

Die eliminering van die siel in die filosofiese mistiek en negatiewe teologie van die begyn Marguerite Porete (1250–1310)

$
0
0

Die eliminering van die siel in die filosofiese mistiek en negatiewe teologie van die begyn Marguerite Porete (1250–1310)

Johann Beukes, Departement Filosofie, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 17(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Hierdie artikel poog om een van die mees uitdagende begrippe in die omvangryke indeks van Middeleeuse filosofie, vanuit een van die mees obskure tekste in hierdie millennium lange periode, in terme van die mees onlangse navorsingsperspektiewe daarop te herlees. Hierdie begrip is naamlik annihilatio, vertaal as die “eliminering (van die siel)”, aangebied vanuit die begyn Marguerite Porete (1250–1310) se kontroversiële teks Mirouer des simples âmes anienties (in Latyn vertaal as Speculum simplicium animarum), op grond waarvan sy deur die hoofinkwisiteur van Parys aan kettery skuldig bevind en op 1 Junie 1310 op die brandstapel in Parys tereggestel is. Marguerite word in hierdie artikel as ’n “negatiewe filosoof-teoloog” binne die intellektuele (hoog-skolastiese) konteks van die 13de eeu geposisioneer, op grond van die duidelike nawerking van Pseudo-Dionisius en Johannes Skotus Eriugena se negatiewe teologieë in haar werk. Daarna word Speculum simplicium animarum bespreek in terme van die sentrale plek van annihilatio, Wesenmystik, ’n unieke filosofiese antropologie, en die wil as ’n subjektransenderende fakulteit en geprioritiseerd bo die intellek, in die teks. In die tweede deel van die artikel word bogenoemde sake vanuit die mees onlangse perspektiewe op Speculum simplicium animarum in ’n samevattende oorsig aangebied. In haar eie tyd is Marguerite bloot as ’n uitdagende “ketter” (uitdruklik nie as ’n “waansinnige” nie) geag. Wanneer haar teks egter vanuit die mees onlangse spesialisnavorsing genuanseerd herlees word en die diskursiewe aweregsheid van die teks teoreties in beskerming geneem word, tree Marguerite na vore as een van die mees provokatiewe denkers in die Westerse ideëgeskiedenis, wat haar ingebedheid in die latere Middeleeue effektief transendeer.

Trefwoorde: Amherst-manuskrip; annihilatio; diskursiewe waansin; eliminering van die siel; Johannes Skotus Eriugena; feministiese lesings; Marguerite Porete (1250–1310); die produktiewe rol van Dionisiese roes; Pseudo-Dionisius; Speculum simplicium animarum; Wesenmystik; die wil geprioritiseerd bo die intellek

 

Abstract

The annihilation of the soul in the philosophical mysticism and negative theology of the beguine Marguerite Porete (1250–1310)

This article reappraises one of the most difficult concepts in the history of ideas in the Medieval Latin West, from one of the most obscure texts in the extensive index of Medieval philosophy. This problematic concept is annihilatio, presented from the controversial text Mirouer des simples âmes anienties (translated in Latin as Speculum simplicium animarum), written and circulated by the beguine Marguerite Porete (1250–1310), on grounds of which she was found guilty of heresy by the inquisitor of Paris and burned at the stake on June 1, 1310. Marguerite is introduced as a “negative philosopher-theologian” within the intellectual (high-scholastic) context of the 13th century, on the basis of Pseudo-Dionysius’ and John Scotus Eriugena’s recurring negative theologies in her work. Speculum simplicium animarum is henceforth disseminated in terms of the significance of annihilatio, Wesenmystik, a unique philosophical anthropology, and the will as a subject-transforming faculty, prioritised above the intellect, in the text. In the second half of the article these prominent aspects of Speculum simplicium animarum are re-evaluated in terms of the most recent perspectives on the text from the specialised Porete research. These perspectives include the “heresy of the Free Spirit” and the recurrence of Pseudo-Dionysius’ negative theology in the text, a thorough reappraisal of Marguerite’s background as a beguine and the intended female address of the text, the Amherst manuscript (British Library ms Additional 37790) as an example of the transmission and influence of the text, as well as feminist reassessments of Speculum simplicium animarum. However, the study of the work has more to offer than what is currently being afforded in some reductionist readings from feminist contexts. When this beguine is reappraised on the basis of her own presentation, she continues to open up new spaces in the extensive index of Medieval philosophy – and when the discursive eccentricity of the text is shielded by nuanced receptions, Marguerite steps to the fore as one of the most provocative thinkers in the Western history of ideas, effectively transcending her embeddedness in the later Middle Ages.

Keywords: Amherst manuscript; annihilatio; annihilation of the soul; feminist reassessments of Speculum simplicium animarum; discursive madness; John Scotus Eriugena; Marguerite Porete (1250–1310); the productive function of Dionysic frenzy; Pseudo-Dionysius; Speculum simplicium animarum; Wesenmystik; the will prioritised above the intellect

 

1. Verketter en verbrand: Marguerite, ’n aweregse begyn uit die laat 13de eeu

Volgens Continuator Willem Nangis, ’n belangrike 14de-eeuse kroniekskrywer, is ’n begyn genaamd Marguerite,1 soms ook Porete genoem, op 1 Junie 1310 op die brandstapel in Parys tereggestel. Die enigste biografiese inligting wat oor genoemde Marguerite beskikbaar is, word aangetref in die sewe inkwisisiedokumente wat deur haar inkwisiteur, Willem van Parys, gebruik is om haar teregstelling af te dwing (Field 2017:9). Uit hierdie dokumente blyk dit dat Marguerite Porete ’n begyn vanuit die Hainaut-distrik in Frankryk was van wie ’n boek (in Frans geskryf en later onder die titel2 Mirouer des simples âmes anienties gesirkuleer) deur Guido, die biskop van Cambrai, veroordeel en in Valenciennes in Marguerite se teenwoordigheid verbrand is. Hierdie aanvanklike veroordeling van die boek (maar nog nie die persoon nie) moes voor 1306 met die verstryking van Guido se ampstermyn plaasgevind het. Marguerite is hierna voor die keuse gestel om nooit weer enige van die idees in die boek te opper nie – hetsy in die privaat of in die openbaar – of anders om inkwisisioneel van dwaalleringe aangekla en formeel vervolg te word (Field 2017:7).

Die begyne was godsdienstige groepe in die Middeleeue wat hulleself streng geslagtelik en grotendeels in terme van die gevestigde kloosterstrukture georganiseer het sonder dat enige lid van die betrokke orde bindende geloftes moes aflê ten opsigte van ’n lewe in selibaat en om gestroop te word van bestaande of toekomstige individuele eiendom (wat juis die bron van inkomste van die meerderheid van kerklik-gesanksioneerde ordes was; Eckenstein 2010:328–53). Begyne was vry om te kom en te gaan, maar moes lojaal teenoor die betrokke orde bly. Hulle was dus ook vry om die orde permanent sonder enige strafsanksie te verlaat, maar kon nie na die spesifieke orde terugkeer wanneer dit eenmaal verlaat is nie (Lewis 1989:24). Tegnies het die begyne dus nie gebedel nie, maar was vir hulle daaglikse onderhoud afhanklik van die barmhartigheid van die betrokke gemeenskap waarin hulle hulle bevind het. In ruil het hulle in die gemeenskap versorgingswerk gedoen, wat ingesluit het die versorging van siekes, gestremdes, bejaardes en weeskinders. Trouens, teen die helfte van die 13de eeu was die meerderheid verpleegsters in Duitsland en Frankryk begyne. Begyne was egter sosiaal blootgestel (Neel 1989:322): Juis omdat die begynse ordes nie onder die toesig van die plaaslike klooster en provinsiale biskop gefunksioneer het nie, kon hulle nie op die soort beskerming aanspraak maak wat geordende nonne en monnike binne die kloosters en abdye geniet het nie. Hulle kenmerkende vrygeestigheid het hulle juis ook oopgestel vir voortdurende aanklagte van dwaalleer (veral ten opsigte van wat beskou is as ’n antroposentriese teologie en ’n humanistiese mensbeskouing), seksuele immoraliteit (wat sporadies plaasgevind het binne selfdegeslagkonteks, maar binne die begynse ordes allermins algemeen was) en openbare bedelary (wat wel voorgekom het, maar slegs wanneer die plaaslike gemeenskap die betrokke groep begyne versaak het – McDonnell 1954:45). In 1311, ’n jaar na Marguerite se teregstelling, is die begynse beweging by die Konsilie van Vienne onder leiding van pous Clemens V (pous van 1305 tot 1314) finaal veroordeel, en die ordes is daarna formeel verban (Bynum 1984:175). Marguerite se veroordeling en dramatiese teregstelling het binne hierdie institusionele verbanning van die begyne ongetwyfeld ’n rol gespeel (Scarborough 2017:315; Marin 2010:92). 

Marguerite as individu pas volledig binne die vrygeestige voeg van die Middeleeuse begyne – juis haar sin vir individuele vryheid en haar aversie vir kerklike gesag het haar daartoe gebring om Guido se ernstige waarskuwing nié te eerbiedig nie. Tussen 1306 en 1308 erken sy voor die inkwisiteur van Lorraine en Guido se opvolger, Marigny, dat sy steeds gereeld oor die inhoud van haar boek praat, in sowel private gesprekke as in die openbaar. Sy erken ook dat sy ’n aantal eksemplare van die hoofmanuskrip, wat deur Guido verbrand is, laat bly sirkuleer het in ’n verskeidenheid van begynse ordes en ook wyer, wel wetende dat dit uiteindelik by die biskop van Châlons-sur-Marne, Châteauvillain, sou beland. Na hierdie erkenning is Marguerite se saak oorgeplaas na die jurisdiksie van Willem van Parys, waar sy vanaf ten minste die middel van 1308 in afsondering in die tronk in Parys toegesluit is. Nadat sy geweier het om die juridiese eed af te lê op grond waarvan inkwisisionele verrigtinge teen haar kon begin, het Willem tot formele inkwisisionele vervolging “sonder medewerking” oorgegaan. Dit het beteken dat hy met die vervolging sou kon voortgaan slegs indien hy daarin sou kon slaag om ’n prima facie-klag van dwaalleer teen Marguerite geformuleer te kry met behulp van formele advies van toonaangewende magistri by die Universiteit van Parys wat in kerkreg en teologie gespesialiseer het. 

Die teoloë by Parys het Willem se versoek om ’n teologiese begronding vir en kerkwetlike regsadvies ten opsigte van Marguerite se moontlike veroordeling van die hand gewys. Die juriste by die regsgeleerdheidfakulteit het egter wel op 3 April 1310 ’n advies aan Willem oorhandig waarin aanbeveel word dat Marguerite op grond van haar “negatiewe teologie” aan kettery skuldig bevind behoort te word en dat die gepaste inkwisisionele vonnis – verbranding op die brandstapel – sonder verdere verwyl opgelê behoort te word. Op 11 April poog Willem weer om teologiese advies te bekom wanneer hy 21 teoloë by die universiteit versoek om 15 stellings uit die manuskrip (wat selfs tot op daardie stadium nog nie ’n titel gehad het nie), in terme van die teologiese haalbaarheid al dan nie daarvan, te oorweeg (Field 2017:11). 

Dit was vir die teoloë by Parys nie moontlik om die hoofinkwisiteur van die stad ’n tweede keer te systap nie. Al 21 teoloë het uiteindelik bevind dat minstens twee uit die aangebode 15 stellings in die manuskrip op ernstige dwaalleer neerkom. Op grond daarvan het Willem Marguerite op 31 Mei 1310 formeel aan kettery skuldig bevind en die volgende dag uit die tronk na die selle van die provoos van Parys vir teregstelling laat oorplaas. Marguerite Porete sterf dieselfde dag, 1 Junie 1310, op die brandstapel, nadat sy eers weer moes toekyk hoe alle beskikbare eksemplare van die gehate oorspronklike manuskrip in haar teenwoordigheid verbrand word. Hierdie mistikus, filosoof-teoloog, begyn en “ketter” sterf na oorlewering tussen vlamme op ’n straathoek in Parys sonder beweging of geluid (Field 2012:28).

Portret van ’n Franse begyn uit die vroeg-14de eeu. ©Dickens 2009

 

2. Die invloed van Pseudo-Dionisius en Skotus Eriugena op Marguerite se negatiewe filosofiese teologie

Marguerite moet binne die intellektuele konteks van die 13de eeu uitdruklik verstaan word nie as ’n filosofiese teoloog of as ’n teologiese filosoof nie, maar as ’n filosoof-teoloog.3 Daarby moet haar negatief-teologiese oriëntasie in hierdie verband beklemtoon word (Turner 1998:474–80), teen die agtergrond van die prominente nawerking van die vroeg-Middeleeuse Pseudo-Dionisius (ca. 500) en Johannes Skotus Eriugena (815–877) se negatiewe teologieë in haar werk (Beukes 2020a:I:77–90; 123–33).

Marguerite vind ten diepste aansluiting by Pseudo-Dionisius se Neoplatoniese vertrekpunt dat God “anderkant syn” (hyperousios) is (Pseudo-Dionisius 1990: De Divinis nominibus I4, 593A). Dit beteken dat God die basis vir alle synsvorme is, maar self niesyn is, en daarom absoluut onkenbaar en onverwoordbaar is. God is die Een, wat die eerste beginsel van die werklikheid is, anderkant syn en kennis, met die gelyklopende leerstelling dat “om te wees, is om verstaanbaar te wees”. Dit bevestig dat wat ook al is, bedinkbaar is, verstaanbaar vir die verstand. Dit sou onmoontlik wees om ’n syn te postuleer wat nie bedink kan word nie, aangesien so ’n postulering reeds neerkom op ’n bedenking van die syn. Verstaanbaarheid, dit wat deur die verstand begryp kan word, is in hierdie sin die wesenlike betekenis van syn. Syn is daarom in Neoplatoniese sin duidelik en tegelyk begrensd; alleen ’n definitiewe en begrensde “dit” kan deur die verstand begryp word. Enige syn bestaan daarom in die gedetermineerde totaliteit van die eienskappe of kenmerke van daardie syn, waarom dit is wat dit is, en juis daarom verstaanbaar is. Wanneer Dionisius God as hyperousios postuleer, beteken dit nie dat oor God slegs in terme van negatiewe predikate gepraat kan word nie; met ander woorde, dat slegs negatief gepostuleer kan word dat God “nie is nie” of dat God “onkenbaar is” – omrede die negatiefstelling of negasie steeds ’n denkhandelende aktiwiteit is en as sodanig God steeds, hoewel in die negatief, konseptualiseer. In daardie sin is daar geen korrektiewe verskil tussen God “is” en God “is nie” nie – om God se bestaan of enige wesenseienskap van God te negeer, beteken om God steeds as ’n gekonseptualiseerde objek te hanteer; hetsy enersyds in besit van of andersyds ontdaan van bepaalde wesenseienskappe.

Die stelling “God is onkenbaar” beteken effektief om God te identifiseer as ’n onkenbare wese – en maak dus wel aanspraak op kennis van God, hoe minimaal ook al. Daarom stel Dionisius dit dat God “anderkant elke negasie en affirmasie” is (Pseudo-Dionisius 1990: De mystica theologia I.2,1000B; V,1048B; my kursivering). God is nie bloot onverwoordbaar en onkenbaar nie, maar is anderkant onverwoordbaarheid en onkenbaarheid. Die vraag ontstaan of daar vanuit hierdie Neoplatoniese gerigtheid hoegenaamd oor God gedink en gepraat kan word, anders as om terug te trek in stilwording. Dionisius se antwoord is dat ons wel oor God kan praat, in die sin dat ons God kan benaam of kan ken vanuit die geskape dinge (dit is alle syn), as juis die oorsaak van daardie dinge of syn (Pseudo-Dionisius 1990: De Divinis nominibus I.5, 593 AB; I.5, 593 D; I.6, 596 A; De coelesti hierarchia IV.1, 177 D).

Op die oog af beteken die aanduiding “oorsaak” wel weer ’n identifisering van God as syn, dan natuurlik begrensd en verstaanbaar. Dionisius gebruik die begrip oorsaak egter bepaald Neoplatonies: Aangesien “is” of “om te wees” beteken om determineerbaar te wees, is enige wese of syn vir die bestaan daarvan afhanklik van die gedetermineerdheid daarvan, sodat juis die gedetermineerdheid daarvan die oorsaak van die syn kan wees. God is die Skepper van alle dinge, as die konstituerende determineerder van alle dinge, wat elke ding determineer om te wees deur dit te maak “wat dit is”. God is sodoende die “Synheid van alle Syndes, sonder dat God self Syn is” (Pseudo-Dionisius 1990: De Divinis nominibus V.4, 817 C, 817 D). In die laaste afdeling van hierdie artikel sal aangedui word hoe omvangryk Marguerite aansluiting gevind het by hierdie teologie wat haar bykans 800 jaar voorafgegaan het. 

Skotus Eriugena was die eerste Latynse vertaler van Dionisius se volledige oeuvre uit die Grieks. Sy Periphyseon, ’n werk wat in 1210 finaal veroordeel en op verbode indeks geplaas is op grond van wat beskou is as die “ondermynende panteïsme” daarin (Beukes 2020a:I:123–5), bestaan uit vyf volumes, hoewel Eriugena aanvanklik net vier volumes beplan het, wat hy wou laat ooreenstem met die vier verdelings van die natuur wat die dieptestruktuur van die werk ondervang: die verdeling van syn en niesyn, die verdeling van Ongeskapenheid en Skepper, die verdeling van oorsaaklikheid en verskeidenheid, en laastens die verdeling van menslike liggaam-siel. Al vier hierdie verdelings sou nawerking geniet by Marguerite, wat hoogs waarskynlik toegang tot nie-amptelike eksemplare van die verbode teks gehad het.4

 

3. Annihilatio in Speculum simplicium animarum 

Die feit dat 21 teoloë (weliswaar teensinnig) by Parys twee uit 15 stellings uit Marguerite se manuskrip ondubbelsinnig as dwaalleer uitgewys het en dat dit, tesame met die regsgeleerdes se kerkwetlike regsadvies, genoegsaam was om Marguerite inkwisisioneel te vervolg en tereg te stel, dui op ’n klag wat van meet af uiters ernstig was. Daardie twee stellings gaan terug op ’n enkele, negatief-teologiese en inderdaad uitdagende filosofiese postulering: die eliminering van die siel.

Daar was natuurlik vele mistieke tekste uit die Middeleeue wat dramatiese aansprake rondom die moontlikheid van ’n eenwording van God5 en mens gemaak het. Sommige daarvan het ’n ekstreme asketisme bevorder en ander ’n Christologiese, kontemplatiewe lewe. Dikwels verwys hierdie mistieke tekste na Bybelse geskrifte en die kerkvaders se nagelate spekulasies, om hierdie spekulatief-mistieke posisie rondom die eenwording van God en mens te probeer legitimeer. Feitlik al hierdie tekste is gemoeid met die probleem van die menslike gevallenheid voor God – as juis die hindernis vir ’n volledige vereniging van God en mens. Die meerderheid van hierdie tekste moedig daarom ’n lojale toewyding aan die kerk en onderwerping aan die kerklike regering, die kerk se liturgiese praktyke (veral met betrekking tot die Nagmaal) en die kerk se veronderstelde vermoë om die deugde in beskerming te neem, aan. Bo alles is die meerderheid van die mistieke tekste uit die Middeleeue gerig op ’n fundamentele, gemedieerde transformasie van die mistieke subjek wat daardie subjek in staat sou moes stel om die Godheid te benader (Corduan 2001:206). 

Maar geen van hierdie mistieke tekste – met Pseudo-Dionisius en Eriugena as betekenisvolle uitsonderings – het geargumenteer vir ’n volledige opskorting van die onderskeid tussen Skepper en skepsel nie, juis op grond van die soort negatiewe filosofiese teologie wat by hierdie twee denkers vaardig was. Marguerite se (later so benaamde manuskrip) Speculum simplicium animarum (Spieël van eenvoudige siele; Engelse vertaling normaalweg Mirror of simple souls; van hier af SSA), geskryf in die 1290’s en amptelik in Mei 1310 deur die kerk veroordeel, is juis ’n sonderlinge aanbod van so ’n negatief-teologiese mistiek in die latere Middeleeue (Lichtmann 2001:67). Die teks onderskei sigself van ander Middeleeuse mistieke tekste juis deur die aanbod van ’n radikale negatiewe teologie, wat herhaaldelik deur Marguerite gekenmerk word as “sielseliminerend” (Lichtmann 1998:212–6). 

Die Latynse term annihilatio, waarvan op grond van die mees onlangse navorsing vasgestel kan word dat dit die eerste keer in die 1250’s in ’n preek deur die Franciskaan Gilbertius van Tournai gebruik is (Field 1999:248), is werklik moeilik om in Afrikaans te vertaal. In Duits word annihilatio dikwels as Vernichtung of selfs as Zerstörung in vertalings aangebied, in Frans en Engels normaalweg direk as annihilation, en in Nederlands soms as annulering. Die Afrikaanse woord vernietiging, met verwysing na die Duitse oorweging van die harder begrip Zerstörung, is te skerp: semanties is dit nie wat Marguerite in gedagte gehad het nie. Sy het eerder ’n oplossing en “verdwyning” van die siel in die oog, hoewel oplossing en verdwyning vir haar aktiewe begrippe is, in die sin dat die siel bewustelik niebestaande wil wees (Robinson 2017:38 [2]; Marin 2010:89–109). Daarom sou die Afrikaanse vertaling eliminering moontlik as ’n verantwoordbare semantiese vertaling van die Latynse annihilatio kon deug. 

Marguerite se diskursiewe oogmerk in SSA is teen hierdie vertalingsagtergrond die eliminering van die siel, wat vir haar tegelyk die hoogtepunt en ontknoping van die vervolmaking van die siel verteenwoordig: naamlik, dat die siel sistematies geëlimineer word om te “wees wat God is”, juis terwyl die siel “nog beliggaamd” is. In hierdie sielsgeëlimineerde toestand word menslike eienskappe (letterlik) met die Goddelike wesenseienskappe vervang. Daarby beklemtoon Marguerite dat die eliminering van die siel vir haar nie alleen dui op die realisering van die mens se ingebore natuur nie, maar juis op ’n transformasie van die epistemologiese en metafisiese status van die subjek.

Marguerite onderspeel ook die kenmerkende nadruk op liggaamlike foltering deur asketiese dissipline, wat werklik wyd deur die mistieke trajekte van die Middeleeuse aanwesig was, deur “armoede” te kwalifiseer as die “armoede van die wil”, eerder as in terme van materiële skaarste (Marin 2010:91). Voorspelbaar en tiperend van die vrygeestige, spekulatiewe aard van begynemistiek is daar by haar feitlik geen sprake van verwysings na Bybelse tekste of na patristiese oorleweringe nie. Daarby was Marguerite ten opsigte van temperament uitdagend: Daar bestaan geen twyfel dat sy die bestaande verstaan van kosmiese orde en die teologiese status quo bewustelik wou ondermyn nie.6 

Marguerite se mistieke eliminering van die siel is ’n diep ondermynende opvatting, gewortel in Neoplatonisme en esoteriese, spekulatiewe filosofieë in die Christelike tradisie. Sy kenmerk SSA selfbevestigend en uitdagend as “esoteries” en inderdaad “obskuur”; tog gee die teks blyke van haar “wydgaande filosofiese erudisie en sterk intellektuele oortuigings” (Bothe 1994:107). Sy beskryf haarself dan ook as een “van weinige” wat “uitverkies” is om die hoogste geestelike wekroep te hoor, naamlik om “die siel te begelei om te word wat God is” (SSA 63).7

 

4. Wesenmystik in Speculum simplicium animarum

Speculum simplicium animarum is filosofies ’n moeilike teks, wat die leser ook deur middel van ’n idiosinkratiese stilistiese aanbod onder hermeneutiese druk plaas – Marguerite plaas haar leser doelbewus in vertigo (McGinn 1998:248). Die teks, wat geskryf is in dialoogvorm wat aan Boethius se De consolatione philosophiae herinner,8 word tematies gedra deur die twee simpatieke hoofkarakters Ame (Siel) en Dame Amour (Dame Liefde), sowel as die twee byspelers Courtoisie (Hoflikheid) en Entendement d'Amour (Begrip van Liefde). Dame Amour tree op as die gids in Marguerite se reis en beantwoord met ’n rustige waardigheid al die plofbare vrae wat tydens hierdie reis aan haar gestel word. Sy is sowel die spreekbuis vir God as die fakulteit waardeur die siel geëlimineer word. Hierdie vier karakters word gekonfronteer deur drie antagoniste, te wete Raison (Rede), Entendement de Raison (Begrip van Rede) en Vertus (Deugde), wat almal skerp gekant is teen die moontlikheid van sielseliminering. Raison is die hoofantagonis en moeilikheidmaker wat onophoudelik vrae aan Dame Amour stel en dan mymerend oor haar antwoorde kla. Hierdie verteenwoordiger van hoofstroom- Christelike dogma sterf uiteindelik op die reis (maar gooi selfs nog ’n laaste keer wal vanuit die graf; SSA 87). Dan is daar ook nog twee ander karakters, Saincte Eglise la Petite (Klein Heilige Kerkie, wat Raison se institusionele soortgenoot is) en Saincte Eglise la Grant (Groot Heilige Kerk, Dame Amour se voorkeurruimte en die geestelike samevoeger van die “meerdere siele” wat in ware liefde bymekaar hoort). Marguerite stel God self ’n paar keer aan die woord, maar dan uitsluitlik as die karakter Drie-eenheid (die tweede Persoon, Jesus Christus, praat nie ’n enkele keer selfstandig in SSA nie).

Marguerite (SSA 42) verkies om eerder na haarself as die “paghouer van ’n geheime kennis” te verwys as om die term mistikus te gebruik, wat haar as pretensieus opval. Haar mees uitstaande eietydse eksegeet, Joanne Robinson (2017:41), beskryf Marguerite nietemin as ’n wesensmistikus, in die sin dat sy ’n spekulatiewe Wesenmystik bedryf waarin daar ’n spontane identiteit, soortgenootlikheid en affiniteit tussen die menslike siel en God tot stand gebring word. (Dieselfde soort Wesenmystik word ook by Mechtild aangetref; Beukes 2019b:3; vgl. Ruh 1977:265–70.) Wesenmystik, as ’n mistiek wat dus fokus op die verhouding tussen syn en essensie, moet onderskei word van Minnemystik, die gelade en dikwels dubbelsinnige liefdesmistiek wat tematies terugkoppel na die boek Hooglied in die Ou Testament en in die Middeleeue deur veral Hildegard (Beukes 2019a:72–3) en Hadewijch van Antwerpen9 ontwikkel is, met Bernardus van Clairvaux (Beukes 2020a:I:399–410) as ’n manlike eksponent van hierdie tradisie. Mistieke tekste in hierdie tradisie maak ruim gebruik van metafore wat met liggaamlike liefde en seksuele intimiteit vereenselwig kan word. Hierdie soort metafore stel die liefdesmistikus in staat om ’n ontologiese onderskeid tussen die twee geliefdes te handhaaf: Dit is ’n intense en hartstogtelike liefde, maar uiteindelik niks meer nie as die liefde van twee onderskeie en altyd-onderskeibare subjekte (Kocher 2008:3–6).

Marguerite vind die liefdesmistieke benadering ontoereikend, juis omdat sy fokus op die moontlikheid van ’n “vereniging van ononderskeibaarheid” waarin die menslike siel en God verenig word sonder enige onderskeid (sy gebruik byvoorbeeld die twee terme unitas indistinctionis [ononderskeibare eenheid] en unio sine distinctione [eenheid sonder onderskeid] afwisselend; sien ook Lichtmann 2001:66). Wesenmystik beklemtoon die skepping van die siel imago Dei, wat vir Marguerite ’n ontologiese status beteken wat die reditus of terugkeer van die siel na God bemoontlik (Robinson 2001:35; 51; 60; 64; 67; 74; 97). Sy neem by voorkeur ’n verskeidenheid van tradisionele metafore oor wat begrippe soos vereniging sonder onderskeid en terugkerende reditus effektief simboliseer: ’n ouer vrou wat nie langer menstrueer nie, yster in vuur, geskenke tussen minnaars, seksuele Rausch en (alkoholiese) dronkenskap. Sy gebruik egter ook metafore wat permanensie bo verandering, vrede bo oorlog, naaktheid bo kleding en oorvloed bo skaarste stel.

Daarby vertrou sy – uniek binne die begynse konteks, wat konvensioneel eerder stoflike armoede en laerstandigheid sou benadruk – metafore wat aan adellikheid georiënteer is, met verwysing na onder andere vryheid, vrywillige diensbaarheid, erflatings en histories-vasgestelde plekke en plekname wat met die adelstand vereenselwig word (bv. SSA 77; sien Bothe 1994:106). Die beeld van waters wat saamvloei en verenig, bly daarby een van haar mees herhaalde voorkeurbeelde (bv. SSA 25, 52, 83 en 117). Hierdie metafore, wat elkeen oor ’n unieke intensiteit beskik, dui op die vereniging van Goddelike en menslike liefde, waarin die beliggaamde siel word “wat God is” deur die transformerende krag van die liefde vir God as Syn. Marguerite se Wesenmystik staan dus vierkantig in die (vir haar) absoluut-reële eksistensie van die siel in God (Gössmann 1988:41).

’n Geëlimineerde siel is dus “wat God is, deur liefde getransformeer” (SSA 135). Of anders gestel: ’n Siel wat in die proses van eliminasie verkeer, is “syn sonder syn wat Syn is” (SSA 115) – die siel is deur intense liefde tot ware Syn getransformeer. In hierdie toestand is die siel ontledig van alle geskapenheid en verenig met God, en daarom volledig vry van aardse gebrokenheid. Hierdie verwerkliking van die siel se outentieke aard is die sleutel tot sielseliminering; dit is radikaal in die sin dat dit tot “teen die wortel van die siel se identiteit sny” (SSA 70). Die siel in die proses van eliminering beskik oor geen “wat of waarom” nie (SSA 84). Sy word “niks” (letterlik uit die Latyn: “nie-hier”), sonder werk, sonder kennis, sonder haar eie syn, “soos wat sy was voordat sy was” (SSA 121). Die geëlimineerde siel “doen niks, nie vir God nie en ook nie vir haarself nie; sy wíl niks nie, weet niks nie en het niks nie” (SSA 7; sien ook 28). 

Maar op grond waarvan kan Marguerite hierdie radikale aansprake maak? Op sterkte waarvan kan sy die tersaaklike kerklike, dogmatiese en teologiese idees wegdoen ter wille van die oorweging van so ’n ondermynende leerstelling? Die antwoord daarop moet in haar filosofies-teologiese antropologie gesoek word (Robinson 2017:44; Terry 2017:1–8).

 

5. Die filosofies-antropologiese eliminering van die siel

In haar filosofiese antropologie tref Marguerite ’n enkele en basiese onderskeid: Daar bestaan mense (by verre die meerderheid) wat hulleself verwesenlik deur Raison te volg en hulle daaglikse werk pligsgetrou te doen; en dan is daar die mense (by verre die minderheid) wat tot vervulling en verwesenliking kom deur die eliminering van die siel (Corduan 2001:201). Eersgenoemdes, waarna Marguerite ook as die “mindere siele” verwys, is dus die Raison-volgelinge, wat God se goedheid op bemiddelde wyse verstaan, primêr deur die Middelaarskap van die tweede Persoon van die Drie-eenheid. Die mindere siele is die nageslag van Adam, wat hulle gevallenheid voor God deur die kerklik-bemiddelde weg leer verstaan en na God terugkeer sonder dat hulle identiteit op enige stadium deur hetsy die gevallenheid van die mens of die terugkeer na God self geaffekteer word. 

Marguerite aanvaar die skeppingsverhaal rondom Eden daarom filosofies-voorwaardelik: Adam verteenwoordig die vrees, angs en versukkeldheid van menswees (Gössmann 1988:42). Gevolglik moet hierdie “mindere siele” elke dag werk, aangewese op die bemiddelingsruimte van die klein kerkie, Saincte Eglise la Petite. Hierdie filosofies-teologiese uitgangspunt verklaar die afwesigheid van enige Christologie en Skriftuurlike verwysings in SSA: Christus is vir Marguerite meer waardevol as ’n morele voorbeeld vir die “meerdere siele” wat streef na sielseliminering, as wat Christus vir hulle ’n “Middelaar” is (of kan wees). Christus is inderdaad Middelaar vir die mindere siele van die Raison-volgelinge, maar nie vir die meerdere siele “vir wie selfs radikale askese nooit radikaal genoeg is nie” (SSA 57). Christus vernou die diepe vervreemding en afstand tussen God en mens – en dit is waarvoor die mindere siele by Christus in die skuld sal bly. Daarom moet die mindere siele daagliks ter wille van singewing en deugdelikheid “bly werk” (Robinson 2017:42).

Vir die meerdere siele wat die eliminering van die siel najaag, geld ’n ander filosofies-teologiese posisie as dié van bemiddeling: Hulle is nie bloot imago Dei geskep nie, maar is reeds imago Dei. Hierdie meerdere, “eenvoudige siele”, soos benoem in die titel van SSA, is “eenvoudig” omdat hulle volmaak geskep is, weliswaar ook in onvolmaaktheid verval of geval het, maar die eenvoud daarvan herken om “eenvoudig op te staan en in alle eenvoud die pad tot die hoogste volmaaktheid te stap” (SSA 3). Hierdie pad wat in “alle eenvoud gestap” word, is nie ’n bemiddelde pad nie, maar ’n pad waarin “onderhandel” is vir nonaktiwiteit en die wegdoenbaarheid van werk, gerig op ’n progressiewe afstandname van die geskepte wêreld. 

Hierdie skema van eenvoud is gebaseer op die opvatting dat die siel wesenlik nie-hier en geen-ding is, totdat die siel die eliminering van die siel “wil” (SSA 109). Dit is net enkele siele beskore om die moontlikheid tot die eliminering van die siel te herken – en daardeur enige en alle vorme van bemiddeling (dus ook in Christus) verby te gaan (SSA 82; sien ook 91). Hierdie meerdere, hoëre en eenvoudige siele wat in staat is tot sielseliminering en ’n volmaakte eenwording met die Godheid, leef volgens Marguerite (SSA 77) “letterlik in ’n ander wêreld” as wat die mindere siele leef wat op grond van hulle misplaaste gehegtheid aan Raison nooit tot eenwording met die Godheid sal vorder nie. Die hoër, geëlimineerde siel, daarenteen, oorstyg liggaam, gees en alle geskapenheid (Gössmann 1988:41).

Hierdie opvattinge staan natuurlik skerp teenoor die Augustiniaanse erfenis, juis soos wat dit veral in die Franciskaanse orde vanaf die tweede helfte van die 13de eeu bestendig is: Platoniese en Neoplatoniese filosofie maak wel voorsiening daarvoor dat die siel ’n patroon van weggaan van (exitus) en terugkeer na (reditus) God volg, en dat die siel se diepste identiteit in daardie opsig wel “Goddelik” is. Maar vir Augustinus en sy nawerking in die hoofstroom- Latynse Weste van die hoog-skolastiek kan skepsels hoogstens rus vind by God – maar absoluut nooit “God word” nie. Kennis van God móét bemiddel word, onder meer deur die vleesgeworde Woord, die Skrif as gepredikte Woord en die hiërargiese kerk (op die spoor van die apostels) as verkondigde Woord. Marguerite het die sentraliteit van bemiddeling in die gangbare Christelike dogma goed begryp – en haar bewustelik en polemies deur middel van haar leer van sielseliminering teen die hoofstroom- Latynse Weste van die 13de en vroeg-14de eeue opgestel (Gössmann 1988:43).

’n Vereniging van ononderskeibaarheid tussen mens en God is volgens Marguerite moontlik omdat die siel van die Drie-eenheid ’n “afdruk” ontvang van “wat was”, naamlik “voor die val” en “voor geen-ding” (SSA 77). Hierdie “afdruk” geld egter wedersyds: Soos wat die Drie-eenheid “afgedruk” is op die siel, is die siel “afgedruk” op die Drie-eenheid, en daarom in staat tot ’n blywende eenwording met die Godheid in júis ’n beliggaamde toestand.

Presies hóé gevaarlik hierdie opvatting van Marguerite was, blyk uit die filosofiese bron daarvan, naamlik Skotus Eriugena se Periphyseon (Robinson 2017:46 [39]). Voorop in Eriugena se herhaaldelik-veroordeelde filosofiese standpunte (wat, soos vermeld, finaal in 1210 op verbode indeks geplaas is) was sy aandrang dat die enigste ware eksistensie van die mensheid ’n “idee in God se verstand” is. Eriugena dupliseer dus die Goddelike idees in die mensheid en postuleer daarmee die mensheid as ’n wesenlike skarnier in die kosmologiese skema van exitus en reditus, om daarmee die mensheid as “medeskepper” van God voor te stel. Vir beide Marguerite en Eriugena is die “wesenlike niksheid” van die mensheid die sleutel tot ’n volmaakte eenwording met God. Gegewe die veroordeling en verbanning van Eriugena se Periphyseon in 1210 (op grond van die hoofklag van genoemde “ondermynende panteïsme” in die werk) en die algehele onbeskikbaarheid van die teks na 1210, is dit in die navorsing tot vandag toe onduidelik waar Marguerite aan haar eksemplaar of eksemplare van Periphyseon gekom het – hoewel sy nie by name na Eriugena verwys nie, is daar net te veel filosofies-teologiese ooreenkomste tussen die twee denkers dat dit aan enige nie-intensionaliteit toegeskryf kan word. 

Dit is egter nie verrassend dat Marguerite juis aansluiting vind by ’n veroordeelde Ierse monnik uit die 9de eeu nie. Sy deel volledig in Eriugena se diepgesetelde sin vir subversie: “Moet nooit julle niksheid vergeet nie [...] Moet nie vergeet wie julle was toe God julle geskape het nie” (SSA: 34) “[...] Om terug te keer na die voorgeskape eenheid met God is ’n skepsel se hoogste roeping” (SSA 135). Hiermee gee Marguerite uitdrukking aan ’n uitdruklike afdrukopvatting, waarin die hoogste deel van die siel “afgedruk” is op God en gehandhaaf word deur Goddelike liefde (waarna sy soms wel afsonderlik as die “Heilige Gees” verwys). Hierdie afdruk word in gedrang gebring deur gevallenheid en eiewilligheid, soos wat duidelik blyk uit die onkunde, aardsgebondenheid en die mindere siele se aangewesenheid op bemiddeling (juis in Christus; vgl. Bynum 1984:6–13). Nietemin is daar vir Marguerite ’n diepertastende werklikheid, naamlik dat die afdruk van die siel in God en die afdruk van God in die siel “ewig” is en “uitdruklik gehandhaaf word, ten spyte van die gevallenheid in en vervallenheid van sonde” (SSA 73). 

Haar aandrang op die daadwerklike bestaan van “die siel in God” lei Marguerite tot ’n pleitbesorging vir die inherente adellikheid van daardie meerdere siele wat ontvanklik vir sielseliminering is (Robinson 2001:86; sien Kocher 2008:54 vir ’n verdediging van Marguerite se oënskynlike elitisme). Marguerite verleen voorkeur aan oorgeërfde adellikheid (bo ’n adellikheid geskoei op meriete byvoorbeeld) en veg daarmee die hiërargiese kerk se aandrang op Skrifverwysings en uitdruklike aansluitings by die kerkvaders aan. Deur die aksent op oorgeërfde adellikheid te plaas, skep sy ook ’n diskursiewe terugkoppeling na die mees primordiale voorganger van die mensheid, naamlik God self, as die trinitariese grondslag van alle dinge. God stel al die Goddelike dinge, waaronder die goeie en vryheid, tot God se ware erfgename – die adellike, hoër siele – se beskikking. 

Hierdie siele is God se “voertuie deur uitverkiesing” (SSA 73). Hierdie uitverkiesing word self weer in die eliminering van die siel bekragtig, wat ’n bewys – reeds op aarde tydens die geleefde lewe – is dat ’n siel tot ewige eksistensie in die Drie-eenheid verhoog kan word, juis deur geëlimineer te word. Sielseliminering word nie bewerkstellig deur bemiddeling nie (juis teenoor die tradisionele verlossingsbegrip, naamlik as die gevolg van die bemiddeling van die Middelaar en die bemiddeling van die kerklike sakramente), maar deur die werking van liefde in die adellike siel (SSA 107: Bothe 1994:110). 

Die siel word deur God sélf verseker dat die Drie-eenheid in die siel verkeer ten spyte van die mensheid se versetlike gevallenheid voor God. Hoewel die menslike siel die breuk met God “gewil” het (SSA 1), is daardie breuk nie permanent nie, maar word geheel wanneer die siel daarin slaag om die siel volledig van “wil te ontdaan” en te word “wat God is”. Dit vooronderstel ’n radikale en volkome ontlediging van die Self, ’n radikale transformering van subjektiwiteit, bo en buite die greep van Raison se konstante aardgebonde aansprake op rede, wil en werk (SSA 135, 51). Die siel in ’n toestand van eliminering breek deur na ’n enkelvoudige, verenigde ruimte “wat God is” – en beweeg daarmee weg van ’n wêreld van werk en begeerte na ’n absoluut ononderskeide eenheid met God.

Hier is geen middelaar nie en die einde is ’n spieëlbeeld van die begin – vandaar die verwysing na die “spieël” in die titel van SSA. Hierin word ’n dialektiek van sowel teenwoordigheid en afwesigheid as van immanensie en transendensie voltrek (Robinson 2017:50). Omdat die siel haar ware vorm behou (synde met die Drie-eenheid daarin afgedruk), ten spyte van haar gevallenheid, behoef die siel geen verdere intermediêre ingrepe nie. Die siel en God kyk, soos minnaars in die ou tradisie van hofmakery, reguit na mekaar en beide is volledig toegewyd en lojaal aan die waarheid en werklikheid van hulle liggaamlikheid (Scarborough 2017:303–6).

In ’n uitdruklike en negatief-teologiese aansluiting by Pseudo-Dionisius stel Marguerite (SSA 81) dit dat God “geen-ding” is vanuit menslike perspektief en dat “die siel bestem is om geen-ding” te word, dus te word “wat God is”. Met hierdie geen-ding stel die siel alle-dinge voor wanneer die siel geëlimineer word, wat nie ’n opheffing van die siel uit die gevallenheid daarvan is nie, maar eerder die verwesenliking van die siel se ware aard en outentieke natuur. Die vraag is natuurlik hoe die siel – as weliswaar ’n “ding” – geëlimineer kan word tot “geen-ding”.

 

6. Die wil as subjektransformerende fakulteit en as geprioritiseerd bo die intellek 

Marguerite (SSA 118) verwoord haar teorie van sielseliminering met verwysing na sewe “fases van suiwering” en drie “afsterwes”. In teenstelling met die gangbare mistieke tradisies van die Middeleeue, waar skaarste en vermindering beide die vertrekpunte en oogmerke vir mistieke progressie stel, fokus Marguerite eenvoudig op die “suiwerheid van die siel” (SSA 119). Die siel is sodanig “suiwer” wanneer dit deur opeenvolgende fases van telkense suiwering en afsterwes uiteindelik deur die psigologiese fakulteit van die wil in staat gestel word om God onafhanklik van God te wil.

Wanneer die gesuiwerde siel sigself in staat stel om God te wil, sonder dat dit so deur God gewil is, is die siel uiteindelik “geen-ding” (SSA 109). Die eliminering van die siel is dan voltrek. Maar dialekties gebeur daar juis “iets” met die siel wanneer die siel self nie meer “iets” is nie: Die siel besef dan vir die eerste keer in watter mate die ongeëlimineerde siel in verset teen God was. Die siel word dan vir die eerste keer in staat gestel om verantwoordelikheid vir die siel te neem. Die (verlossing van die) siel is nie langer die verantwoordelikheid van God nie; die verlossing van die siel is die siel se eie verantwoordelikheid en net die geëlimineerde siel kan daardie verantwoordelikheid opneem.

Marguerite (SSA 117) verwoord dit weer in radikale terme: “Soos wat Christus deur sy dood die Verlosser van die mense is en God die Vader met sy dood verheerlik, so is ek deur my geëlimineerde siel die verlosser van myself tot eer van God die Vader.” Hieruit blyk die soteriologiese implikasies van Marguerite se leerstelling duidelik: Gewone verlossing is vir gewone mense, mindere siele. Eenvoudige, hoër, meerdere siele, daarenteen, is hulle eie verlossers tot eer van God. Die geëlimineerde kwaliteit van die eenvoudige siel dui juis die ontologiese kwaliteit van daardie siel aan (Gnädinger 1994:135–45).

In ’n aangrypende beeld (SSA 81–85) beskryf sy die geëlimineerde siel as ’n “swemmer in ’n see van vreugde”: Die siel “swem in vreugde sonder om vreugde te ervaar, omdat die siel in vreugde verkeer en vreugde in die siel verkeer [...] omring deur Goddelike vrede, sonder enige verdere inwendige beweging, sonder enige iets meer uitwendigs om te doen”. Die siel is “asof dood en haar as is oor die see uitgestrooi [...] [D]ie siel het haar identiteit volkome verloor.” Dit is daarom dat Marguerite op ’n somersdag in 1310, omhul deur vlamme op ’n Paryse straathoek, sonder beweging of geluid kon sterf.

 

7. Navorsingsperspektiewe op Speculum simplicium animarum

Marguerite se teks is nie alleen uitdagend in die hermeneutiese sin nie; dit is ook uitdruklik teendogmaties en verbysterend kontra-intuïtief, tot op die grens tussen absolute helderheid en patologiese waansin. Sy oortree elke skolastiese stelreël in haar bewustelike verbygaan van ’n Christologiese aanbod, haar opheffing van die radikale onderskeid tussen Skepper en skepsel en haar nie-Augustiniaanse klem op die wil as subjektransformerende fakulteit. Dit is daarom nie vreemd dat SSA prominent vertoon in letterlik elke studie oor laat-Middeleeuse dwaalleringe nie (Scarborough 2017:297). Die vraag is hoe hierdie uitdagende en inderdaad “dwalende” teks herlees kan word as ’n betekenisvolle toevoeging tot die indeks van Middeleeuse filosofie.

7.1 Die “kettery van die Vrye Gees” en Pseudo-Dionisius se nawerking

Wat die veroordelenswaardige of sensureerbare kwaliteit van die teks betref, word SSA normaalweg vanuit ’n verskeidenheid moontlike vertrekpunte herlees. Sommige eksegete van die teks beskou Marguerite as ’n slagoffer van historiese omstandighede wat “op die verkeerde tyd op die verkeerde plek” was – want hoe anders sou die resepsie van die teks nie gewees het as sy as ’n “waansinnige” geag sou gewees het wat in die latere Middeleeue dan juis aangemoedig sou gewees het om die “Dionisiese waarheid” te praat nie? (Vgl. Zum Brunn 1990:83.) Ander weer probeer die teks se invloed dokumenteer in terme van ’n teensinnige Middeleeuse filosofie-teologie, of as die teks van ’n pleitbesorger vir ’n uitdruklik vroulike spiritualiteit wat inkwisisioneel wreed die swye opgelê is, of as wesenlik deel van ’n wyer en uitdagende Middeleeuse mistiek, aangevoer deur Meister Eckhart (McGinn en Colledge 1981:8).10 

Hierdie uiteenlopende vertrekpunte kom egter daarin ooreen dat hulle SSA in verband bring met die sogenaamde kettery van die Vrye Gees, wat nie ’n formele beweging of aanduibare sekte in die laat Middeleeue was nie, maar wel ’n teendogmatiese en antikerklike oriëntasie wat deur die grootste deel van die 14de eeu sigbaar was (Lemer 1972:84). Daar was binne kerklike geledere ’n ernstige verset teen hierdie oriëntasie, wat onder meer duidelik geblyk het uit die laat 14de-eeuse kanselier van Parys, Johannes Gersonius, se heksejag op mistieke denkers in die algemeen (Beukes 2020b:8). 

Dit is egter nie die “kettery van die Vrye Gees” wat die resepsie van SSA bepalend gekenmerk het nie, maar die prominensie van die nawerking van Pseudo-Dionisius se negatiewe teologie in die werk. In die 14de eeu is Dionisius toenemend herwaardeer in terme van sy negatiewe teologie, maar ook sy opvatting van “apofatiese begeerte”, wat daarop aankom dat liefde die enigste wyse is waarop die siel deur die wolk van onkunde kan breek om tot God te kan nader (Turner 1995:187–9). Marguerite radikaliseer beide die negatief-teologiese en apofatiese momente: SSA kan daarom verstaan word as ’n “intensivering van die dialektiek van ’n apofatiese teologie in ’n oorgang na asketiese praktyk” wat ’n “apofatiese antropologie” produseer (Turner 1995:139–40). Met apofatiese teologie word bedoel dat Goddelike eienskappe gebruik word om die menslike siel te definieer, wat sonder twyfel by Marguerite die geval is.

Die implikasies van so ’n apofatiese teologie hou onafwendbaar teendogmatiese gevolge in, aangesien die siel in hierdie Goddelike definiëring van die siel opgehef word en die Goddelike natuur ononderskeibaar van die siel stel. Die gedeelde, ongeskepte natuur van God en die siel dwing ’n taal af wat in konvensionele en dogmatiese terme inderdaad “verregaande” is (Turner 1995:6). Die prioritisering van liefde as ’n daad van die vrye wil bo die intellek bemoontlik die verskuiwing van God na die siel: Op grond van die ewige, ongeskepte aard van God is daar ’n element van die menslike siel wat insgelyks ewig en ongeskep is. 

Die werklikheid is egter dat Marguerite nooit konvensioneel gelees en dogmaties verstaan wóú word nie. Juis daarom het SSA vanaf die vroegste sirkulasie daarvan tot ernstige meningsverskille onder die skolastici van die laat 13de en vroeë 14de eeue gelei. Sommige skolastici het dit wel so verstaan dat SSA ’n logiese, hoewel radikale, ontwikkeling van Dionisius se negatiewe en apofatiese teologie aangebied het, en dat hoewel die werk nie gekonformeer het aan 14de-eeuse Christelike dogma nie, dit nie sonder meer ’n afwyking van die Christelike tradisie verteenwoordig het nie. Ander skolastici het Marguerite se sielseliminering geïnterpreteer as ’n aanbod vanuit die Dionisiese tradisie om God “anderkant elke negasie en affirmasie” te ken. Dit is in hierdie Dionisiese opvatting van die ongenoegsaamheid van taal dat SSA se ondermynende aksente tot uitdrukking gebring en as sodanig waardeer behoort te word. Die meerderheid skolastici uit die tweede helfte van die 14de eeu het die teks egter skerp afgewys as ’n “buitengewone dwaling” (Field 2017:30). 

7.2 Die verrekening van Marguerite se bydrae as begyn

Die mees onlangse Porete-navorsing dui aan dat SSA gelees behoort te word as ’n teks wat deur ’n begyn vir begyne geskryf is, met ’n uitdruklik vroulike “adres”. Met die vroulike protagonis Dame Amour sentraal in die teks, behoort SSA na hierdie hermeneutiese oriëntasie gelees te word as ’n gedrewe vroulike mistiek wat in spanning verkeer het met 14de-eeuse partriargale strukture, veral met die laat 13de-eeuse kloosterwese. Waar Hadewijch se liefdesmistieke benadering op ’n tydelike bestel dui waar begeerte triomfeer en die twee subjekte (God en mens) duidelik onderskeie bly, breek Marguerite se wesensmistiek deur die begeerte en die soeke na vervulling: Die siel, eenmaal geëlimineer, is van hierdie begeerte bevry en “gee werklik vir niks meer om nie, of dit nou die hemel of die hel is” (SSA 68).

Eenmaal geëlimineer deur die vrye wil, beskik die siel oor geen wil meer nie en staan dit daarom nie blootgestel voor die afwesigheid van begeerte of opgewonde voor die ekstase daarvan nie. Waar Hadewijch se liefdesmistiek die intense begeerte na God beklemtoon en inderdaad blootgestel voor die afwesigheid daarvan staan, benadruk Marguerite se wesensmistieke sielseliminering ’n toestand van konstante vrede vanuit die met God verenigde siel. Hierdie toestand word deur Marguerite tot uitdrukking gebring deur temas wat verband hou met adellikheid, die bykans uitsluitlike gebruik van vroulike eiename en die teenwoordigheid van vroulikheid in die Godheid in die persoon van Dame Amour. Dit alles spreek kennelik van ’n vrou wat haar op ’n vroulike adres rig (Kerby-Fulton 2017:262–4).

Die spiritualiteit wat in SSA aanwesig is, konformeer dus aan die vroulikgesentreerde en vroubeheerde godsdienstigheid van die begyne. Tog breek SSA ook weer weg van die gestandaardiseerde norme van Middeleeuse vroulike mistiek: Marguerite se mistiek is nie besonder visioenêr (soos by Hildegard), affektief (soos by Mechtild) of ekstaties (soos by Hadewijch) nie. Trouens, wat deur haar tydgenote as gevaarlik in die teks beleef is, is dat SSA nie vertoef het in die vererende, liriese en emosionele taalsfeer wat normaalweg met vroulike denkers vereenselwig is nie, maar juis oorbeweeg het na die sfeer van onderrig en ’n grondig spekulatiewe mistiek (Lichtmann 2001:71–4).

SSA vermy in werklikheid enige aanspraak op visioenêre gesag: Marguerite bied nie ’n openbaringsvisie aan waarin die Godheid die inhoud van die werk voorskryf en daarmee ’n weg aanbied onafhanklik van die insigte van die skrywer nie. Marguerite se gesag vestig in Marguerite. Sy weier botweg om aan patriargale norme te konformeer, verruim begynse vrygeestigheid en waag dit om die leer oor die Drie-eenheid eksplisiet te kritiseer in haar leer oor die eliminering van die siel. Dit doen sy vanuit die vroulikgesentreerde atmosfeer van die vroulike begynse ordes, en dit is juis in hierdie konteks waar SSA se vroegste lesers en hoorders aangedui behoort te word.

Weer breek SSA ook in hierdie opsig weg van konvensie: Anders as die tekste van ouer begyne soos Mechtild en Hadewijch, verskaf SSA nie bloot ’n kontemplasie van begynse spiritualiteit nie, maar wil eerder as ’n handleiding of gids vir die gewyde lewe dien: Marguerite se kritiek op haar vroulike medegangers se vermoë om die teks te waardeer (SSA 152)11 dui nogeens op ’n opvoedkundige oogmerk binne die begynse ordes self. Hierdie klem op die didaktiese element in SSA gaan die gangbare interpretasie van die teks as ’n “elitistiese werk met geen praktiese waarde buiten die esoteriese dialoë van ’n ketterse begyn met die opset om die kerk skade te doen” teë (O’Sullivan 2006:145). In stede daarvan om die teks voortdurend dogmaties, teologies en literêr te weeg, behoort SSA dus vanuit die mees onlangse navorsing herwaardeer te word as ’n historiese dokument wat insig in 13de-eeuse begynse spiritualiteit verleen. 

7.3 Die Amherst-manuskrip as voorbeeld van die invloed van Speculum simplicium animarum 

Ten spyte van die hoofinkwisiteur van Parys se dekreet dat alle eksemplare van SSA wat teen 1309 in sirkulasie was, aan die kantoor van die inkwisiteur oorhandig moes word vir vernietiging, het ’n merkwaardige aantal eksemplare van die hoofmanuskrip in ’n verskeidenheid tale oorleef (Scarborough 2017:316–7). Die huidige Porete-navorsing fokus juis op ’n herlesing van manuskripte wat in Latyn, Italiaans, Middel-Engels en Frans oorleef het. Die oorlewing van hierdie manuskripte oor eeue heen kan verstaan word as Marguerite se finale oorwinning oor Saincte Eglise la Petite, daardie klein kerkie van die mindere siele: Hoewel sy die inkwisisie nie oorleef het nie, het haar teks oorleef. Dit is ook duidelik dat die teks ’n gevestigde laat 13de-eeuse spiritualiteit gereflekteer het, soos tot uitdrukking gebring vanaf die begyne tot die lekedom en die radikaal-kontemplatiewe oogmerke van die Kartuiserorde (Cré 2006:160–70). In haar soeke na ’n ondermynende spiritualiteit was Marguerite gewis nie ’n stem alleenroepende in die woestyn nie.

In haar wydgaande navorsing in die oorlewering van die sogenaamde Amherst-manuskrip (folionommer: British Library ms Additional 37790), ’n versameling van kontemplatiewe tekste onder redaksie van ’n Kartuisermonnik uit die middel van die 15de eeu, argumenteer Cré (2006:169) dat SSA hoogs waarskynlik as ’n gevorderde handboek in filosofiese mistiek in Kartuiserkloosters gebruik is. Trouens, SSA dien as voorbeeld van wat die inhoude van ’n Kartusiaanse kontemplatiewe mistiek vanaf die tweede helfte van die 14de eeu kon behels het. Cré (2006:36) wys daarop dat die Amherst-manuskrip opsommings van ’n veeltal mistieke denkers bevat, vanaf Richard Rolle se Vuur van die liefde en die Heling van die lewe, Juliana van Norwich se Openbaringe van Goddelike liefde en Opstel oor die volmaaktheid van die Seuns van God en Jan van Ruusbroec se Die sprankelende steen tot uiteindelik SSA self. Marguerite se teks verskyn laaste in die manuskrip, wat daarop dui dat Amherst ’n interne ontwikkeling voorstel waarin vanaf ’n elementêre mistiek algaande na ’n komplekse mistiek beweeg word, waarvan SSA as die mees komplekse en uitdagende geag is. 

Met ander woorde, Kartuisermonnike is in filosofiese mistiek opgelei met ’n sin vir progressie, waarvan Marguerite se werk die eindpunt en inderdaad die hoogtepunt verteenwoordig (Cré 2006:42–9). Die tekste in die Amherst-manuskrip is doelgerig so geredigeer dat die tekste mekaar aanvul en verklaar; SSA kan dus begryp word as die produk van ’n natuurlike progressie in Middeleeuse filosofiese mistiek, voorafgegaan deur werke wat die veronderstelde hoorders en lesers in staat sou moes stel om SSA uiteindelik te kon waardeer sonder om dit summier op dogmatiese gronde af te wys. Cré se ontleding van die Amherst-manuskrip lewer in hierdie sin ’n besondere bydrae om die invloed van SSA reeds vanaf die middel van die 15de eeu te verreken.

7.4 Die feministiese herwaardering van Speculum simplicium animarum

Die dwingende eietydse vraag is natuurlik wat die tersaaklikheid is van ’n teks wat meer as 700 jaar gelede veroordeel is en waarvan die skrywer wreedaardig tereggestel is. Antwoorde op hierdie geldige vraag is die afgelope vier dekades oorwegend vanuit feministiese geledere aangebied, met wisselende grade van sukses. “Feminisme”, wat ook alles onder hierdie onpresiese noemer byeengebring word, loop veral in Middeleeuse navorsing die konstante risiko van anachronisme, in die sin dat vroulike Middeleeuse denkers meer dikwels dan nie as “voor hulle tyd” geïnterpreteer en aangebied word.

Tog is dit juis in Middeleeuse navorsing dat feministiese lesings oor die afgelope dekades ’n daadwerklike bydrae gelewer het om die interpretasiemoontlikhede van gemarginaliseerde Middeleeuse tekste (geskryf nie net deur vroue nie, maar deur alle slagoffers van die meedoënlose patriargie in die Middeleeue – juis ook mans) te verruim en te bestendig. Die eietydse “herwinning” van “gemarginaliseerde” stemme uit die Middeleeue (soos in die inleidingswerk van Beukes 2020a) is grondig afhanklik van feministiese lesings van Middeleeuse tekste, soos aangebied in die werke van Caroline Walker Bynum (1984, 1987), die digteres Anne Carson (2005), Monica Furlong (1996), Annette Grisé (2002), Amy Hollywood (1995, 2002) en wyle Grace Jantzen (1994), om enkele betreklik onlangse feministiese eksponente uit te sonder. Afgesien daarvan dat hierdie skrywers die grense tussen die (manlike) gekanoniseerde en (vroulike) niegekanoniseerde tekste deurkruis, lewer hulle ’n bydrae tot die artikulering van ’n Middeleeuse mistieke Christologie, die interpretasie van Middeleeuse kontemplatiewe en visioenêre praktyke en die geïnstitusionaliseerde kerk se reaksie teen beide. 

Nietemin, by hierdie waardering vir feministiese resepsies van Middeleeuse filosofie moet gemaan word teen die karikatuuragtige aanbod van vroulike Middeleeuse skrywers en begyne soos Marguerite, Mechtild en Hadewijch as “protofeministies” (deurgaans merkbaar by onder andere bovermelde Carson en Hollywood). Vroulike mistieke denkers soos Marguerite word in hierdie soort lesings konsekwent as weerstandige dissidente aangebied, wat “van buite af” ’n vrouehatende, patriargale kerk met fierheid aangedurf het. Selfs die skryfhandeling as sodanig (bloot omdat dit ’n vrou is wat skryf) word by voorbaat as ’n daad van versetlikheid aangebied nog voordat die inhoud van die betrokke teks ondersoek is. Anders gestel, geslagtelikheid word voor tekstualiteit gestel, om daarmee ’n ideologiese voorskriftelikheid ten opsigte van die eksegese van hierdie tekste te impliseer (en selfs te ekspliseer).

Die probleem is dat hierdie soort lesings van vroulike mistieke denkers soos Marguerite uiteindelik tot so ’n mate op die geslag van hierdie denkers fokus dat dit tot net so ’n mate voorskriftelik en verdagend optree as die patriargale tekste en strukture waarteen hulle dit in die eerste instansie het. Immers, indien ’n vroulike denker as “buitengewoon” en “radikaal” aangebied word bloot omdat sy ’n vrou is, word die ander aspekte van die betrokke denker se geslagtelikheid (byvoorbeeld haar seksualiteit) onderspeel, terwyl die aanspraak van die teks van die betrokke denker verminder word omdat die gewaande radikaliteit van die teks alleen in die geslag van die skrywer daarvan vestig.

’n Minder ideologies-gedrewe benadering hou rekening daarmee dat dit onmoontlik is om ’n onaangeraakte of “suiwer” vroulike stem uit hierdie tekste te isoleer, aangesien die meerderheid van hierdie tekste in elk geval deur monnike bemiddel is: “Die stemme van Middeleeuse vroue bereik ons selde in die vorm van ’n direkte vroulike selfaanbod [...] wat ons lees en hoor, kom tot ons in dialoogvorm waarin beide die bydraes van manlike en vroulike stemme vervat is op veelvlakkige wyse, en dikwels op ’n wedersyds verrykende wyse” (McGinn 1998:17; sien Scarborough 2017:320, vn. 65). Talle vroulike Middeleeuse denkers het in grootlikse harmonie saam met een of meer manlike medegangers gewerk (hetsy as priesters, monnike, adviseurs of biegvaders) en hierdie samewerking het ’n gemeenskaplike oogmerk gehad: die aanbod van ’n Goddelike boodskap vir die kerk en samelewing. Natuurlik het Marguerite self nie so ’n manlike medewerker gehad nie; soos by Johanna van Arkel (1412–1431) het die afwesigheid van so ’n manlike begeleier waarskynlik ’n groot rol in haar teregstelling gespeel.

Tog was Marguerite nie in beginsel gekant teen manlike begeleiding nie: Toe dit eenmaal duidelik geword het dat SSA haar sensuurwaardig sou stel, het sy inderdaad toevlug tot manlike medewerkers gesoek deur haar teks aan hulle vir kommentaar voor te lê (Scarborough 2017:321). Nietemin is sy voorspelbaar deur hierdie mans in die steek gelaat – tydens haar verhoor het Marguerite se versoeke om kommentaar as bykomende bewyse gedien dat sy voortgegaan het om ’n reeds-veroordeelde teks te bly sirkuleer. Soos inleidend aangetoon, het Marguerite geweier om haar inkwisiteurs te woord te staan of haar keuse om die teks te bly sirkuleer, te verdedig. Haar stilte in hierdie opsig is nogeens gebruik om haar as ’n vroulike dissident te tipeer: “Marguerite se onwilligheid om te praat het die sein uitgestuur dat sy in verset was daarteen om veroordeel te word deur ’n uitsluitlik manlike tribunaal, op grond waarvan haar reg om te praat oor teologiese sake van meet af aan in gedrang gebring was” (Woods 2001:159). Hoewel toegegee kan word dat haar stilte ’n vorm van verset was, moet versigtigheid nogeens aan die dag gelê word om die geslagtelike verskille tussen Marguerite en haar inkwisiteurs nie te oorspan nie. Die vraag is of ’n tribunaal wat uit uitsluitlik vroulike inkwisiteurs bestaan het, nie redelikerwys tot dieselfde slotsom sou gekom het as die ploeg van manlike inkwisiteurs wat haar saak hanteer het nie.

Die vermelde Porete-spesialis Joanne Robinson dink wel so:

Die probleem met feministiese lesings vestig gedeeltelik in die aanname dat geslagtelikheid die deurslaggewende matriks was vir alle Middeleeuse vroue se verstaan en uitdrukking van hulle eie leefervarings, filosofiese posisies, teologieë en spiritualiteite. Porete het dit nie soseer oor mans en vroue nie, maar eerder oor adellikheid en nie-adellikheid. Dit is hoe sy die wêreld verdeel. Om hierdie skema verby te gaan ten gunste van uitsluitlik geslagsgebaseerde ondersoeke, neem die problematiese kwessies in haar teks op syspore wat Porete self nooit as oogmerk gehad het nie. (Robinson 2001:xiii)

Robinson (2001:xiv) lewer opvolgend ’n pleidooi dat SSA streng in terme van die inhoud daarvan gelees en ontleed word, met verwysing na die wyse waarop Marguerite Middeleeuse konvensies rondom psigologie, waansin, adellikheid en negatiewe teologie hanteer het, en nie op sterkte van ’n voorafbepaalde ideologiese benadering nie.

Die studie van Speculum simplicium animarum het ook buite die gespesialiseerde Porete-navorsing meer om te bied as dit wat tans in sommige feministiese lesings op reduksionistiese wyse aangebied word. Wanneer hierdie begyn op sterkte van haar eie aanbod waardeer word, open sy inderdaad nuwe ruimtes in die uitgebreide indeks van Middeleeuse filosofie – en wanneer die diskursiewe aweregsheid van haar teks met genuanseerde lesings in beskerming geneem word, tree Marguerite na vore as een van die mees provokatiewe denkers uit die Westerse ideëgeskiedenis, wat haar ingebedheid in die latere Middeleeue effektief transendeer.

 

Bibliografie 

Acklin-Zimmermann, B. (red.). 1994. Denkmodelle von Frauen im Mittelalter. Fribourg: Fribourg Universitätsverlag.

Babinsky, E. (vert.). 1993. Marguerite Porete. The mirror of simple souls. New York: Paulist Press.

Beukes, J. 2019a. Hildegard von Bingen as ’n 12de-eeuse filosoof-teoloog. LitNet Akademies, 16(1):64–102. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2019/06/LitNet_Akademies_16-1_Beukes_64-102.pdf.

—. 2019b. “Maak die wêreld nie tot bespotting nie”: ’n Herwaardering van die filosofiese aspekte in Mechtild von Magdeburg se Das fließende Licht der Gottheit (1250). Verbum et Ecclesia, 40(1), Art. #1965:1–8. https://doi.org/10.4102/ve.v40i1.1965.

—. 2020a. Middeleeuse filosofie. Volumes I en II. Pretoria: Akademia.

—. 2020b. Die triomf van ’n post-skolastieke mistiek oor skolastieke lojalisme: Gersonius versus Ruusbroec (postuum), 1399. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 76(1), Art. #5672:1–12. https://doi.org/10.4102/hts.v76i1.5672.

Boethius. 1934. De consolatione Philosophiae. Corpus Scriptorum Ecclesiasticorum Latinorum 67, Kommission zur Herausgabe des Corpus der lateinischen Kirchenväter (CSEL). W. Weinberger (red.). Wene: Österreichische Akademie der Wissenschaft. [Vir Engelse vertaling sien Watts (vert.) 1998.] 

Bothe, C.M. 1994. Writing as mirror in the work of Marguerite Porete. Mystics Quarterly, 20(3):105–12. 

Bynum, C.W. 1984. Jesus as Mother. Studies in the spirituality of the high Middle Ages. Los Angeles: University of California Press.

—. 1987. Holy feast and Holy fast. Berkeley: University of California Press. 

Carson, A. 2005. Decreation: How women like Sappho, Marguerite Porete and Simone Weil tell God. Decreation, 1:155–83. 

Carter, R.E. (red.). 1990. God, the Self and nothingness: Reflections Eastern and Western. New York: Paragon House. 

Corduan, W. 2001. Reason in mysticism: Three beguines, three views. Philosophia Christi, 3(1):199–215.

Cré, M. 2006. Vernacular mysticism in the Charterhouse: A study of London, British Library ms Additional 37790. Brepols: Turnhout. 

De Paepe, N. 1967. Hadewijch strofische gedichten. Een studie van de minne in het kader der 12e en 13e eeuwse mystiek en profane minnelyriek. Gent: Koninklijke Vlaamse Academie.

Dickens, A.J. 2009. The female mystic. Great women thinkers of the Middle Ages. Londen: I.B. Tauris.

Doiron, M. (red. en vert.). 1968. The mirror of simple souls. A Middle English translation. Archivio Italiano per la Storia della Pietà, 5:242–355.

Dronke, P. 1984. Women writers of the Middle Ages: A critical study of texts from Perpetua to Marguerite Porete. Cambridge: Cambridge University Press.

Eckenstein, L. 2010. Woman under monasticism. Chapters on Saint-Lore and convent life between A.D. 500 and A.D. 1500. Calgary: Theophania. 

Eckhart, M. 1936. Meister Eckhart. Vol. I: Die deutschen Werke. Vol. II: Die lateinischen Werke. Stuttgart: Kohlhammer. 

Eriugena, J.S. 1996–2003. Periphyseon. Volumes I–IV. E.A. Jeauneau (red.). Corpus Christianorum, Continuatio Mediaevalis, 161–4. Berlyn: Turnhout. [Vertaling in Sheldon-Williams (red. en vert. 1968, 1972, 1982) en O’Meara in Jeaneau (1995).]

Field, S.L. 1999. Annihilation and perfection in two sermons by Gilbert of Tournai for the translation of St Francis. Franciscana, 1:237–74.

—. 2012. The beguine, the angel and the inquisitor: The trials of Marguerite Porete and Guiard Cressonessart. South Bend, Indiana: University of Notre Dame Press. 

—. 2017. Debating the historical Marguerite Porete. In Terry en Stauffer (reds.) 2017:9–37.

Furlong, M. 1996. Visions and longings: Medieval women mystics. Boston: Shambhala.

Gnädinger, L. 1994. Die Lehre der Margareta Porete von der Selbst- und Gotteserkenntnis. Eine Annäherung. In Acklin-Zimmermann (red.) 1994:125–48.

Gössmann, E. 1988. “Ein Wissen, das Frauen nicht zukommt”. Die Geschichte der 1310 hingerichteten Mystikerin Marguerite Porete. Orientierung, 52(4):40–3.

Grisé, A.C. 2002. Women’s devotional reading in late Medieval England and the gendered reader. Medium Aevum, LXXI(2):209–25. 

Hadewijch van Antwerpen. 1980. Hadewijch: The complete works. C. Hart (inl. en vert.); P. Mommaers (inl.). New York: Paulist Press. 

Hollywood, A. 1995. The soul as virgin wife. Notre Dame: Notre Dame University Press.

—. 2002. Sensible ecstacy: Mysticism, sexual difference and the demands of history. Chicago: Chicago University Press.

Jantzen, G. 1994. Feminists, philosophers and mystics. Hypatia, 9(4):186–206. 

Jeauneau, E.A. (red.). 1995. Iohannis Scotti Eriugenae, Periphyseon (De Divisione Naturae), Liber Quartus. J.J. O’Meara (vert.); M.A. Zier (medew.). Dublin: School of Celtic Studies & Dublin Institute for Advanced Studies.

Kerby-Fulton, K. 2017. Books under suspicion: Censorship and tolerance of revelatory writing in late Medieval England. Notre Dame: Notre Dame University Press.

Kocher, S. 2008. Allegories of love in Marguerite Porete’s “Mirror of simple souls”. Brepols: Turnhout. 

Lemer, R. 1972. The heresy of the Free Spirit in the later Middle Ages. Berkeley: University of California Press. 

Lewis, G.J. 1989. Bibliographie zur deutschen Frauenmystik des Mittelalters. Berlyn: Erich Schmidt Verlag.

Lichtmann, M. 1998. Negative theology in Marguerite Porete and Jacques Derrida. Christianity and Literature, 47(2):212–27. 

—. 2001. Marguerite Porete and Meister Eckhart: The mirror for simple souls mirrored. In McGinn (red.) 2001:65–86.

Marguerite (Porete). 1986. Speculum simplicium animarum. Corpus Christianorum 69. Brepols: Turnhout. [Vir Engelse vertalings, sien Babinsky (1993) en Doiron (1968).]

Marin, J. 2010. Annihilation and deification in beguine theology and Marguerite of Porete’s Mirror of simple souls. Harvard Theological Review, 103(1):89–109.

McDonnell, E.W. 1954. The beguines and beghards in Medieval culture. New Jersey: Rutgers University Press.

McGinn, B. 1998. The flowering of Mysticism: Men and women in the New Mysticism, 1200–1350. New York: Crossroad. 

McGinn, B. (red.). 2001. Meister Eckhart and the beguine mystics: Hadewijch of Brabant, Mechtild of Magdeburg and Marguerite Porete. New York: Continuum. 

McGinn, B. en E. Colledge. 1981. Meister Eckhart. New Jersey: Paulist Press.

Mommaers, P. (inl.). 1980. Preface. In Hadewijch 1980:xiii–xxiv. 

Neel, C. 1989. The origins of the beguines. Signs, 14(2):321–41.

O’Sullivan, R.A. 2006. The school of love: Marguerite Porete’s Mirror of simple souls. Journal of Medieval History, 322:143–62.

Pseudo-Dionisius. 1990. Corpus Dionysiacum. B.R. Suchla, G. Heil en A.M. Ritter (reds.). Berlyn: Walter De Gruyter.

Robinson, J.M. 2001. Nobility and annihilation in Marguerite Porete’s Mirror of simple souls. Albany: State University of New York Press.

—. 2017. Marguerite’s mystical annihilation. In Terry en Stauffer (reds.) 2017:38–58. 

Ruh, K. 1977. Beginenmystik: Hadewijch, Mechtild von Magdeburg und Marguerite Porete. Zeitschrift für deutsches Altertum und deutsche Literatur, 106:265–77. 

Scarborough, E. 2017. Critical approaches to Marguerite Porete. In Terry en Stauffer (reds.) 2017:295–322.

Sheldon-Williams, I.P. (red. en vert.). 1968. Iohannis Scotti Eriugenae, Periphyseon (De Divisione Naturae), Liber Primus. L. Bieler (medew.). Dublin: Dublin Institute for Advanced Studies.

—. (red. en vert.). 1972. Iohannis Scotti Eriugenae, Periphyseon (De Divisione Naturae), Liber Secundus. L. Bieler (medew.). Dublin: Dublin Institute for Advanced Studies. 

—. (red.). 1982. Iohannis Scotti Eriugenae, Periphyseon (De Divisione Naturae), Liber Tertius. L. Bieler (medew.). Dublin: Dublin Institute for Advanced Studies.

Terry, W.R. 2017. Introduction. In Terry en Stauffer (reds.) 2017:1–8. 

Terry, W.R. en R. Stauffer (reds.). 2017. A companion to Marguerite Porete and The mirror of simple souls. Leiden: Brill.

Trombley, J.L. 2017. The Latin manuscripts of The mirror of simple souls. In Terry en Stauffer (reds.) 2017:186–217.

Turner, D. 1995. The darkness of God: Negativity in Christian mysticism. Cambridge: Cambridge University Press. 

—. 1998. The art of unknowing: Negative theology in late Medieval thought. Modern Theology, 14(4):474–88.

Waithe, M.E. (red.). 1989. A history of women philosophers. Volume II. Medieval, Renaissance and Enlightenment women philosophers. Dordrecht: Kluwer.

Watts, V.E. (vert.). 1998. Boethius: The consolation of philosophy. Londen: The Folio Society. 

Wolfskeel, C. 1989. Hadewych of Antwerp. In Waithe (red.) 1989:141–66. 

Woods, R. 2001. Conclusion: Women and men in the development of late Medieval mysticism. In McGinn (red.) 2001:147–64.

Zum Brunn, E. 1990. Self, Not-Self and the Ultimate in Marguerite Porete’s Mirror of annihilated souls. In Carter (red.) 1990:81–8.

 

Eindnotas 

1 Sien Marguerite (1968:242–355), asook Bothe (1994:105–12); Corduan (2001:199–215); Dickens (2009:119–33); Dronke (1984:202–28); Field (2017:9–37; 2012, in geheel); Gnädinger (1994:125–48); Gössmann (1988:40–3); Lichtman (1998:212–27; 2001:65–86); Marin (2010:89–109); Neel (1989:321–41); Robinson (2001:xi–xvi; 27–100; 2017:38–58); Ruh (1977:265–77); Scarborough (2017:295–322); Terry (2017:1–8); Trombley (2017:186–217); Turner (1998:474–88) en Zum Brunn (1990:81–8).

2 Die Latynse vertalings van Mirouer des simples âmes anienties (as Speculum simplicium animarum) is opgeneem in ses behoue manuskripte: in die Vatikaan Biblioteek, die Biblioteca apostolica vaticana, Vat. lat. 4355, Rossianus 4, Chigianus B IV 41, Chigianus C IV 85, Vat. lat. 4953; en in die Oxford Bodleian Biblioteek, Laud Latin 46. Van hierdie ses manuskripte is slegs vier volledige eksemplare, reeds binne dekades na Marguerite se teregstelling in 1310 vertaal. Vir ’n omvangryke oorsig van die Latynse vertaaltradisie van Mirouer des simples âmes anienties, sien Trombley (2017:185–9).

3 In hierdie opsig verskil die 13de-eeuse Marguerite nie van die 12de-eeuse Hildegard von Bingen (1098–1179; Beukes 2019a) en Marguerite se ouer Duitse tydgenoot, Mechtild von Magdeburg, nie (ca. 1207 – ca. 1282; Beukes 2019b; sien Ruh 1977:265–77; vir ’n omvattende uiteensetting van die verhouding tussen teologie en filosofie in die 12de en 13de eeue, sien Beukes 2019a:73–8). Vanaf die laat 12de eeu tot vroeg in die 14de eeu vind ons die Middeleeuse denkers Venn-diagrammaties op een van drie plekke: in die sirkel van teologie, in die sirkel van filosofie, of in die snyding tussen teologie en filosofie. Dit word vanaf die eerste helfte van die 13de eeu onafwendbaar om na Middeleeuse denkers te verwys met betrekking tot hulle plek in hierdie Venn-diagram: sommige was filosowe, sommige was teoloë, maar by verre die meeste 13de-eeuse denkers sou met die dubbeldoor aangedui moes word, synde filosoof-teoloë. Dit geld ook vir Marguerite as filosoof-teoloog.

4 Volume I van Periphyseon omlyn die vyf modi van syn en niesyn, stel die vier verdelings van natuur bekend en ondersoek die eerste verdeling, die rol van God as ongeskape Skepper. Hierdie ondersoek na God as ongeskape Skepper word aangevul met ’n ruim ekskurs oor negatiewe teologie (wat self weer teruggaan na Pseudo-Dionisius), teofanie en die toepaslikheid van Aristoteles se 10 Categoriae op die Goddelike natuur. Volume II ondersoek die tweede verdeling van natuur met die vraag na die primordiale oorsake van verskeidenheid in die sigbare werklikheid. Volume III ondersoek die derde verdeling van natuur met die vraag na die skepping, as ’n verhouding van geskepte dinge tussen deelname aan “iets” en aan “niks”. Volume IV is wesenlik Eriugena se antropologie en ondersoek die vierde verdeling van natuur in die mens se dualistiese self. Volume V bestryk Eriugena se idiosinkratiese Neoplatoniese “eskatologie” en borduur op die Neoplatoniese reditus voort (die opstygende terugkeer van alle geskepte dinge na die afstygende Skepper). Hoewel Eriugena se unieke Aristoteliese Neoplatonisme duidelik sigbaar is in Periphyseon, is die opvatting van “skepping” tematies grondliggend aan elke afdeling: die proses waardeur die ongemanifesteerde God sigbaar word en hoe hierdie sigbaarheid terugkeer na die ongemanifesteerde Self. Volume I begin met die aanbod van Eriugena se begrip natuur en dit is uiters omvattend: “Die eerste en fundamentele verdeling van alle dinge, of dit deur die verstand bevat kan word al dan nie, is ’n verdeling tussen die dinge wat is en die dinge wat nie is nie. Natuur is die algemene naam vir alle dinge, vir dit wat is asook dit wat nie is nie.” Met ander woorde, elke objek van denke is reeds ingebed in die begrip natuur. Eriugena isoleer vervolgens in Volume I vyf modi van interpretasie in hierdie eerste verdeling, wat die “basiese onderskeid is wat alle dinge skei”. In die eerste plek word syn en niesyn oorweeg in terme van waarneembaarheid, wat vir Eriugena die vraag inhou of synheid deur hetsy die verstand of die sintuie gepredikeer kan word. God word kennelik nie so waargeneem nie en moet aangaande hierdie modus van interpretasie gepredikeer word as niesyn. Eriugena oorweeg dan syn en niesyn in terme van die plek daarvan op die Neoplatoniese hiërargie, wat die Skepper afstygend met die laagste skepsels verbind en die laagste skepsels opstygend met die Skepper verbind. In hierdie modus is intellektuele vermoë van deurslaggewende belang: Wanneer syn gepredikeer word van ’n skepsel van ’n hoër orde, word daardie skepsel van ’n laer orde gevrywaar, en andersom. Dit is wat ’n onderskeid tussen dinge bemoontlik. Die derde modus van interpretasie het te make met aktualisering, die modus wat die Aristoteliese onderskeid tussen potensialiteit en aktualiteit oproep. Eriugena se vierde modus van interpretasie word oorweeg aan die hand van die fakulteit van waarneming, wat weliswaar ’n verfyning is van die eerste modus: Wanneer iets vir die verstand waarneembaar is as waar en vir die sintuie as niewaar, geld die Platoniese leerstelling dat dit die verstandelike is wat as ten volle waar geld. Die vyfde en laaste modus van interpretasie het te make met die mens alleen en ondervang Eriugena se beskrywing van vrye wil: Dit is die modus wat die mens begryp as die realisering van die beeld van God, met die logiese konsekwensie dat wanneer die mens verwyder word van ’n soortgenootlike ooreenkoms met God, die mens nie-is. Volume II hanteer die verdeling van Ongeskapenheid en Skepper en val vierledig uiteen: Eerstens hanteer Eriugena dit wat skep, maar self nie geskep is nie, wat God, die bron van die skepping, is. Tweedens fokus Eriugena op dit wat geskep is en self skep – baie duidelik ’n byeenbring van Neoplatoniese en Christelike oorwegings, in die sin dat die Neoplatoniese Logos (die uitdrukking van die Goddelike verstand en die ewige beliggaming van die argetipes van die skepping) met die tweede Persoon van die Drie-eenheid in verband gebring word. Derdens fokus Eriugena op dit wat geskep is en self nie skep nie, wat die onderwerp van Volume III is, naamlik die kosmos. Laastens hanteer Eriugena dit wat self nie skep nie en nie geskep is nie, wat in Volumes IV en V hanteer word. Dit is die God van die ewige terugkeer van dinge, in die Neoplatoniese opstygende ommekeer van die hiërargie, van die liggaam na die siel, van die siel na oorsake, en die oorsake na God, wat alles in alles sal wees. Opvolgend sal blyk hoe naby Marguerite haar aan beide Pseudo-Dionisius en Eriugena se oorwegend Neoplatoniese, negatiewe teologieë gehou het.

5 Hoewel in hierdie artikel gepoog word om geslagtelik so neutraal as moontlik na God te verwys (byvoorbeeld eerder “God deur Godself” as “God deur Homself”), is dit binne die konteks van sowel wesensmistiek as liefdesmistiek nie altyd moontlik om anders na God as “manlik” te verwys nie, aangesien God in beide trajekte as “hoogste Man” ervaar en verinwendig word.

6 Binne die chaos in die tweede helfte van die 14de eeu, ’n halfeeu na Marguerite se teregstelling, sou talle Middeleeuse mistieke trajekte herleef, vanaf geradikaliseerde herlesings van Pseudo-Dionisius tot by eklektiese herwaarderings van Marguerite, maar toenemend aweregs: Allerlei vreemde bewegings wat skuilgaan onder die dowwe en onpresiese noemer mistiek het na vore getree, van openbare selfflagellantes tot ekstreem-vrysinnige (en onwettige) bedelordes, wat die draagwydte van enige redelike opvatting van die vrye menslike wil met promiskuïteit en uittartende seksuele eksesse uitgedaag het. Naas Frankryk was die Lae Lande hierdie wilde ontwikkelinge nie gespaar nie: trouens, in die Hertogdom Brabant en in Vlaandere in die noorde van eietydse België, met Gent as sentrum, het talle van hierdie pseudomistieke bewegings in die tweede helfte van die 14de eeu gedy. Jan van Ruusbroec, die vader van die Nederlandse mistiek, se afwysing van Marguerite se negatiewe mistiek koppel na hierdie ontwikkelinge toe terug (Beukes 2020b:3). Marguerite is inderdaad in die tweede helfte van die 14de eeu binne die konteks van hierdie uitwasse gekontekstualiseer en geïnterpreteer, wat haar ongewildheid in haar eie eeu en tot lank daarna nog verklaar – afgesien natuurlik van die uitdagende, “waansinnige” trant van Speculum simplicium animarum as sodanig.

7 Ek gebruik die Latynse teks in die Corpus Christianorum-uitgawe (Marguerite 1986). Verwysings na Speculum simplicium animarum uit Corpus Christianorum 69 geskied per paragraafverwysings, nie bladsye nie, ten einde verwysings vanuit die beskikbare vertalings maklik na te kan speur. Die voorste eietydse spesialisnavorser van Marguerite, Joanne Robinson (2001; 2017), se tekskritiese aanbevelings ten opsigte van eksegetiese oorwegings uit die Latynse teks, met inagname van Trombley (2017:187–95) se tekskritiese aantekeninge by die Latynse uitgawes, word met waardering gebruik. Tensy anders aangedui, is alle Afrikaanse vertalings die skrywer se eie.

8 Boethius het die werk vanuit die tronk, afwagtend op teregstelling, geskryf. Hier word hy besoek deur Filosofie, ’n pragtige ouer dame (dieselfde dame wat aan Sokrates verskyn het in Plato se Crito en wat ook ander martelare van die filosofie, onder meer Anaxagoras en Seneca, in hulle laaste dae vertroos het). Boethius konstateer sy onskuld en bely sy angs vir en vernaamlik voor die dood, voor Filosofie. Sy dring egter daarop aan dat hy sy gedagtes opwentel na ’n werklikheid anderkant sintuig en materie. Saam ondersoek Boethius en Filosofie dan die verhouding tussen Lot en Voorsienigheid. Moes vertroosting daarin gevind word, soos die Stoïsyne geleer het, dat die werklikheid deur noodwendigheid en ’n skeut lotgeval beheer word? Filosofie dring dan daarop aan dat Boethius Lot nie sal blameer vir die verlies aan die eer, mag en plesier wat hy as konsul geniet het nie, omdat ’n wyse mens hierdie sake nooit hoog behoort te ag nie. Dit is, inderdaad soos die Stoïsyne geleer het, onvolmaakte en tydelike dinge. Wat nie verander nie, is die hoogste Goed, en dit is God. Lot is onderworpe aan Voorsienigheid, wat die heelal regeer en reguleer deur ’n liefde fortiter ac suaviter, sterk en soet. God ken alle dinge tegelykertyd, sonder om vrye wil te vernietig (Beukes 2020a:I:65–76).

9 Liefdesmistiek kan beskryf word as ’n oorwegend vroulike verskynsel, waar die begrip liefde (minne) aangewend word om ’n eenwording met God in die wêreld as ’n “liefdesverhouding” aan te dui: God laat Godself toe om ervaar te word as Liefde (Minne) deur die mens wat op soek is na God se liefde (minne). Die uitstaande kenmerk van hierdie liefdesmistiek is die diep emosioneel-ekstatiese karakter daarvan. Die byeenbring van God se Liefde en die mens se liefde affekteer die verstand en sintuie van die mens wat daarby betrokke is tot so ’n mate dat dit in allerlei psigosomatiese gevolge manifesteer, onder andere (soos ook by Hildegard) intense visioene met ’n diepgaande seksuele karakter en die opskorting van menslike subjektiwiteit: Die ervaring van die eenheid met God en die Liefde van God lei tegelyk tot ’n psigologiese afstandname van die Self en ’n verruiming van die Self se selfverstaan en werklikheidsbegrip. Vergelyk byvoorbeeld hierdie treffende (en ’n tipiese) voorbeeld van Hadewijch se liefdesmistiek: “Op ’n Pinkstersondag het ek ’n visioen met dagbreek ervaar. Psalms en Gesange is in die kerk gesing en ek was daar teenwoordig. My hart en are het warm en vinnig met suiwer bloed geklop en my lendene het gebewe en geruk van begeerte. ’n Waansin en vrees het besit van my geneem, dat indien ek my Geliefde nie tevrede stel nie en my Geliefde my begeerte nie vervul nie, ek waansinnig sal sterf en sterwend waansinnig sal word. Op daardie dag was my verstand so angstig en pynlik in besit geneem deur ’n begerende liefde dat dit gevoel het my ledemate gaan skeur en my are uitmekaar gaan spat” (Hadewijch in Mommaers 1980:xiv; sien Wolfskeel 1989:150). Hierdie en soortgelyke beskrywings van haar in-God ervarings tel onder die mees gewaagde en uitdagende passasies waaroor die hele korpus van Middeleeuse mistieke literatuur beskik, waarna De Paepe (1967) in sy gesaghebbende kommentaar oor Hadewijch as ’n “profane minneliriek” verwys. God word voorgestel as só radikaal toeganklik dat God selfs toelaat dat God op ’n ondenkbare en onverwoordbaar-intieme wyse in besit geneem word. Tog staan hierdie liefdesmistiek nie in diens van die erotiese nie, maar in diens van die transendente. Elkeen van hierdie liefdesmistieke passasies in Hadewijch se werk word opgevolg met grondige nadenke oor God as die Gansandere: Hierdie Geliefde wat Hom so oopstel, Homself so sonder voorbehoude gee, gaan elke mens en elke man te bowe: Hy is die “hoogste Man”, wat die misterie van Sy liefde openbaar deur die vroulike geliefde se menslikheid te bevestig juis in Sy andersheid – en haar algaande dieper in haar menslike bestaan grond. Vanuit die Goddelike Ander word sy haarself: Een van Hadewijch se voorkeurfrases vir die wyse waarop God haar in haar liefdesmistieke poësie aanspreek, is “soete lieve kint” (normaalweg is ’n jonger vrou in Middeleeuse Vlaams intiem so deur ’n ouer vrou aangespreek – Wolfskeel 1989:162 [23]). Die erotiese ervaring van God gaan oor tot ’n verstaan van God se diepe sorgsaamheid vir die mens. Hoewel sy God se Liefde as Minne aandui, wat in Nederlands (hoewel eerder Vlaams) ’n vroulike selfstandige naamwoord is, is dit duidelik dat die vergestalting van hierdie hoogste Liefde die “hoogste Man” is – ongetwyfeld die vleesgeworde God in die totaliteit en werklikheid van Sy vleeslikheid, naamlik in Jesus Christus. Uiteindelik bepaal dit haar liefdesmistiek as sowel trinitaries as Christologies. Vergelyk meegaande enkele ander soortgelyke aanhalings uit Hadewijch se subtiele dog provokatiewe liefdesmistiek: “Mag God jou toelaat om Hom te ken, wie Hy is en veral hoe Hy met sy diensmaagde omgaan – en mag Hy diep in jou wees” (Hadewijch 1980:66:9, reël 4); “Begeerte vir God is soms so soet dat dit nie geheel as te versoen met God geag kan word nie, omdat dit uit die ervaring van die sintuie eerder as uit genade en uit die ervaring van die natuur eerder as uit die geestelike, spruit” (1980:10:66–7, reël 7); “Waarin ’n mens ook al die hoogste liggaamlike plesier vind, buiten in God, is vraatsug” (1980:79, reël 79); “Die kriterium vir liefde is soetheid. Bernardus het mos al gesê: 'Jesus is soet in jou mond.' Om van die Geliefde te praat is die hoogste soetheid; dit wek in my mond ’n onmeetlike Liefde op” (1980:79, reël 111); “Wanneer twee dinge een word, mag niks tussen hulle staan behalwe dit wat hulle een gemaak het nie. Dit is Liefde, waardeur God en sy geliefde siel een word” (1980:80, reël 28); “Dit is die eenheid van die suiwerste liefde met Hom, die liefde in eenwording met God, wat insluit sy toewyding, sy manlikheid, sy vermoë” (1980:83, reël 57; beide “manlikheid” en “vermoë” word hier in terme van die Latynse seksuele vernakulêr aangebied); “Vanoggend het die Seun my gesoen ... en ek het een met Hom geword. Die Vader het my een met Hom gemaak en Hom een gemaak met my” (1980:84, l reël 104); “Woorde alleen en Nederlands alleen is genoegsaam vir al die dinge in die wêreld ... maar geen woorde en geen Nederlands kan uitdruk wat ek as my hoogste doel met Hom ervaar nie” (1980:84, reël 121).

10 Die “geboorte” of “generering” van God “in die menslike siel” is een van Eckhart se mees kenmerkende leerstellinge. Die filosofiese ideaal van die mens se vergoddeliking berus op Eckhart se interpretasie van ’n Christelike transponering met verwysing na die inkarnasie van die Woord: Die mens kan Goddelike word, soos wat God mens geword het. Die proses van die reiniging van die siel, die “losmaak” en die vereniging met die Een kan dan wel as “mistiek” verstaan word, maar dan soos wat Eckhart daarop aandring, in uitdruklik die Pseudo-Dionisiese sin van “mistieke”, “negatiewe” en “stilwordende” teologie. Anders as Marguerite bied Eckhart nie ’n mistieke verslag van ’n individuele ervaring aan nie, maar ’n rasionele ondersoek na die voorwaardes vir die mens se eenwording met God. Die filosofiese basis van Eckhart se aanbod vestig in sy ontleding van een van die algemene volmaakthede wat hy aan die transendenteles koppel, naamlik geregtigheid. Die verhouding tussen abstrakte geregtigheid en ’n konkrete sin vir die reg (in die mens) sny na die wese van sy denke (1936:II:392): “Wie ook al die leer oor geregtigheid en ’n sin vir die reg verstaan, verstaan alles wat ek probeer sê.” In die terugkeer na God moet die mens sigself losmaak van alles wat skeppingsmatig en partikulier is: Die mens moet daardeur reg word. Die proses van losmaking is die voorwaarde vir ’n volgende verhouding tussen die abstrakte en die konkrete, naamlik tussen die Vader en die Seun: “Die Vader aanvaar sy Seun as die een wat reg is, omdat die Seun die reg verstaan” (1936:II:392). Geregtigheid en ’n sin vir die reg, in soverre dit reg is, is volledig een – die enigste verskil is dat geregtigheid “voortbring” en dit wat reg is, “gebore word” (1936:II:392). Die verhouding van die abstrakte tot die konkrete is Eckhart se model van die geboorte van God in die siel, wat vir Eckhart die mees volledige uitdrukking van die mens se vereniging met God is.

11 “Geliefde (Marguerite), wat sal die begyne en die godsdienstiges tog sê wanneer hulle die uitnemendheid van jou Goddelike lied hoor? Die begyne sê dat jy dwaal en daarom verdwaald is, en so sê ook die priesters, ampsdraers, predikers, Karmeliete en Franciskane, net omdat jy skryf oor die bestaan van volmaakte liefde” (SSA 152).

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Die eliminering van die siel in die filosofiese mistiek en negatiewe teologie van die begyn Marguerite Porete (1250–1310) appeared first on LitNet.

Benedikt Dreyer (1480–1555): Kunstenaar in konteks van die Kerkhervorming

$
0
0

Benedikt Dreyer (1480–1555): Kunstenaar in konteks van die Kerkhervorming

Wim A. Dreyer, Departement Historiese en Sistematiese Teologie, Universiteit van Pretoria

LitNet Akademies Jaargang 17(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming1

Benedikt Dreyer was ’n kunstenaar en beeldsnyer wat in die eerste helfte van die 16de eeu in Lübeck gewoon en gewerk het. Dit was ’n tyd waarin die Renaissance, Humanisme van Erasmus en die Kerkhervorming oor Europa gespoel het. Dit was spanningsvolle tye van oorlog, epidemies en ingrypende sosiopolitieke verandering. Sy vroeë kunswerke is in opdrag van die Rooms-Katolieke Kerk, gildes en individue vervaardig; sy latere werk in opdrag van die Lutherse kerkleierskap. Formeel weerspieël Dreyer se kunswerke die denke en teologie van sy tyd, maar terselfdertyd ook ’n diep, persoonlike spiritualiteit. Die Graafskap Holstein en die stad Lübeck is die konteks waarin Dreyer se verhaal afspeel. Hierdie bydrae fokus op sy biografiese gegewens, sy kuns en die impak van die Kerkhervorming op hom en ander kunstenaars. Foto’s van die kunswerke wat op permanente uitstalling in die Heilige Annen Museum in Lübeck gehou word, is ook ingesluit. Die bydrae maak ook enkele opmerkings oor Benedikt Dreyer as stamvader van die Dreyer-familie in Suid-Afrika. Dit maak sy verhaal meer persoonlik en van belang vir ons kultuurhistoriese en kerklike verlede.

Trefwoorde: beeldsnyer; Benedikt Dreyer: Dreyer-familie; epidemies; Graafskap Holstein; Kerkhervorming; kunstenaar; Laat-Gotiese kuns; Laat Middeleeue; liturgiese vernuwing; Lübeck; sosiopolitieke verandering

 

Abstract

Benedikt Dreyer (1480–1555): Artist in context of the Reformation

Benedikt Dreyer was a Late-Gothic woodcarver (Bildschnitzer) and sculptor who worked and lived in Lübeck during the first half of the 16th century. It was a time of radical change. The Renaissance, Erasmian Humanism and diverse Reformation movements transformed European society in every possible way. The ecclesial landscape changed irrevocably. It was a tension-filled time, aggravated by religious wars and epidemics. This contribution examines the life and work of Benedikt Dreyer in the context of the 16th-century Reformation and the effect the Reformation had on art production.

The early artworks of Benedikt Dreyer reflect the ecclesial situation and theology of the pre-Reformation era. This is clear from the subject matter, in the sense that Dreyer produced art which included apocryphal legends and objects for use in Roman Catholic liturgy. His later artworks reflect Lutheran principles in terms of liturgy and content, with a strong focus on Biblical narratives and the centrality of Christ, which is typical of Lutheran theology. Dreyer’s art not only reflects the context and theology of the time, but also a deep, personal spirituality. The artworks which are on permanent exhibition in the St Annen Museum in Lübeck reveal the exquisite detail, craftsmanship, artistry, emotional depth and spirituality of Dreyer’s art. Photos of some of these artworks are included in this contribution.

Critics differ as to which artworks could be regarded as authentic Dreyer works. The different opinions revolve around the questions of dating as well as the possible influence of southern artists like Riemenschneider. It was common practice for young artists to travel and study with masters in other areas. The research of Thiesen (2007) answered many of these questions. Her detailed analysis of Dreyer’s technique and style as she compared them with those of someone like Riemenschneider indicates some influence from the south. Thiesen’s research is not repeated here. Rather, the focus of this contribution is on Dreyer’s biographical details, about which there is also a difference of opinion.

At the beginning of the 16th century many artisans established themselves in Lübeck. Goldsmiths, silversmiths, painters, sculptors, woodworkers and many others practised their art in the city. Many of them had workshops in the area of the Horse Market. Many of these artworks are still to be seen in churches, public buildings and museums in countries such as Germany, the Netherlands, Russia, Denmark, Sweden, Finland and Estonia. For some time, Lübeck had been the centre of the so-called Northern Renaissance, which had developed in the wake of Humanism, new scientific discoveries as well as socio-political changes, like early forms of democracy and capitalism. Influential figures of the Northern Renaissance were Desiderius Erasmus, Albrecht Dürer and Gutenberg. Before the 16th century the Italian Renaissance had little influence north of the Alps. Northern art and science developed independently of the south. The Northern Renaissance was also linked to the Protestant Reformation. Many of the Reformation leaders were infused with the ideals of Erasmian Humanism and learning. At the beginning of the 16th century the Italian Renaissance became more influential in the southern parts of Germany, but to the north (Lübeck) the influence remained limited. As a result, art production in the first half of the 16th century maintained the Late-Gothic style. This disappeared only after the Reformation, because during the Reformation the demand for art, especially in churches, declined dramatically. 

Benedikt Dreyer’s life is described in the context of the 16th-century Reformation. By 1530, the Reformation had spread through the northern parts of Germany and Scandinavia. It is a well-known fact that the Lutheran and Calvinistic movements had a negative impact on art production. The Reformation was a movement of education and books, telling the Bible stories through the medium of words and print and not through visual images and art. As a consequence, many artists lost their means of earning a living and they either left Lübeck or changed their profession. The large number of properties sold by artists during this period attests to this fact. However, this did not happen to Benedikt Dreyer. He was appointed by the Lutheran leadership to an official position with the responsibility to maintain the art in the Marienkirche (Church of Mary) in Lübeck, as well as to build and decorate the new Reformed pulpit.

Sources put Benedikt Dreyer’s date of birth around 1480, probably in Lübeck. His father and mother were in all probability Hans and Cillye Dreyer. We know he had at least two brothers (Jurgen and Hans) and a sister (Gretke). The three brothers were all artists, doing wood carving, sculpting and painting. It is reasonable to assume that the father also earned a living as a woodcarver, because the general practice of the time was that artisans transferred their knowledge, skills and business to their sons. If that was the case, Benedikt would have started his training as a woodcarver with his father at an early age. It was also common practice for young artists to travel and visit other artists and workshops. Research points to the fact that Benedikt Dreyer left Lübeck in 1502 for Lüneburg, approximately 90 kilometres south of Lübeck, to further his training as an artist. He left for the Lüneburg Gesellschaft in the company of Hans Witte, a friend from Lübeck. In 1505 he was promoted to Ghesellen Schaffer, which meant that he had the status of Meister (master craftsman) responsible for the training of young artisans. In the autumn of 1507 he continued his journey to the southern regions of Germany, where he would have experienced something of the growing influence of the Italian Renaissance. Thiesen’s research points to an extended stay in the vicinity of Ulm and Schwabe, as well as a visit to the workshop of Tilman Riemenschneider in Würzburg. This conclusion is based on a comparative analysis of technique and design. Thiesen is convinced that Dreyer worked with Riemenschneider, because of similarities in their technique and design. This sojourn in southern Germany lasted approximately three years. By 1510 Dreyer had returned to Lübeck, where he was allowed to open his workshop as a master craftsman.

Shortly after 1510, Benedikt Dreyer married Taleke van dem Kroghe, the daughter of a well-to-do artist who owned two houses in the Horse Market area (no. 5 and no. 7 Pferdemarkt) where most of the artists lived and worked. Benedikt and Taleke Dreyer lived in the Pferdemarkt properties until 1535, when Dreyer bought his own house in Hundestrasse. The fact that he could buy his own house in that period is quite remarkable. It was a time when many artists found it difficult to survive and had to sell their properties because of the negative effect of the Reformation on art production. The relatively good position in which Dreyer found himself, despite the negative impact of the Reformation, is confirmed by his appointment as Kirchenmaler (official church artist) to the Marienkirche in 1538. By this time the Lutheran Reformation was well established in Lübeck, under the influence and guidance of the well-known friend and confidant of Luther, Johannes Bugenhagen. This leads to the assumption that Dreyer supported the Reformation movement, otherwise the Lutheran church authorities would not have appointed him to an official position in the church. He also received the appointment to build and decorate the new pulpit in the MarienkircheThe financial registers of the Marienkirche (dated 1540) also reflect payments to Dreyer. The use of Netherdutch instead of Latin in the church registers is also interesting. It points to the emphasis the Reformation placed on the use of local languages and the opposition to Latin as the official language. The register also mentions that Benedikt Dreyer had delivered artworks to the church. In the Netherdutch it says that the “Beldesnider Benedictus Dreyer” delivered artworks “vor dat Münster”. 

There is no record of the effect the 1517 or 1528 outbreak of the sweat sickness epidemic in Lübeck (and the rest of Europe) had on the Dreyer family, although it is possible that some family members could have succumbed to the epidemic. Benedikt and Taleke Dreyer probably had three sons, one of whom (Christopher) had been involved with the selling of the house in Hundestrasse in 1555. It was also the year in which Benedikt died. Benedikt is in all probability the progenitor of the Dreyer family in South Africa, as genealogical research has traced the family roots back to 16th-century Lübeck.

The question could be asked why it is important to investigate the life and work of a relatively unknown artist such as Benedikt Dreyer. There are several reasons for this. The first reason is the growing interest in the role of art during the Reformation, as reflected in recent and upcoming international conferences on the topic. The second reason is the growing interest in a “history from beneath”, where the emphasis is placed on the role of common people rather than on the role of famous and well-known leaders in church and society. The stories of common people, those on the margins of society, are becoming more important. The reason for this is not merely to find some alternative research objects, but because it deepens our understanding of historical events. The history of the Reformation has been written so often by competent scholars that it becomes a question of what could be added to the already existing body of knowledge. One way of adding knowledge and deepening our understanding of the past is by telling the untold stories. This in itself is a very difficult and complicated enterprise, due to the limited sources available. It requires a multidisciplinary approach that makes use of resources from various fields. In this contribution art history, church history, cultural history, political history and genealogical research were integrated to tell the story of a relatively unknown artist who lived and worked in a context of socio-political and ecclesial transformation in the midst of wars and epidemics. Thirdly, Benedikt Dreyer is a character of interest in the genealogical research on South African families.

Keywords: artist; Benedikt Dreyer; Dreyer family; Duchy of Holstein; epidemics; Late-Gothic art; sculptor; Late-Medieval era; liturgical renewal; Lübeck; Reformation; socio-political change; woodcarver

 

1. Inleiding

Benedikt Dreyer2 was ’n Laat-Gotiese beeldsnyer (Bildschnitzer) en houtsneewerker wat in die eerste helfte van die 16de eeu in Lübeck, in die Graafskap Holstein, sy kuns beoefen het. As mens die Heilige Annen Museum in Lübeck3 besoek waar enkele van sy kunswerke op permanente uitstalling is, staan jy verbaas oor die detail, vakmanskap, emosionele diepgang en spiritualiteit van Dreyer se kunswerke. 

Aan die begin van die 16de eeu het heelwat kunswerkers4 as goudsmede, silwersmede, kopersmede, skilders, beeldhouers, graveerders, houtwerkers en vele meer hulle ambag in Lübeck beoefen. Die kunswerke wat behoue gebly het, is te sien in museums en kerke in Lübeck, maar ook in talle ander dorpe en stede in Nederland en Duitsland en so ver as Denemarke, Swede, Noorweë, Finland, Estland en Rusland. Lübeck was vir lank die belangrikste kunssentrum van die Noordelike Renaissance (te onderskei van die Suidelike Renaissance wat in Milaan sy oorsprong gehad het). Teen 1530 het die Kerkhervorming soveel veld gewen dat die vraag na kerklike kuns afgeneem het en baie van die kunswerkers Lübeck moes verlaat of hulle tot ander beroepe moes wend.

Die van Dreyer was ’n bekende van wat gedurende die Laat Middeleeue wydverspreid in die kusgebiede van die Noordsee en die Baltiese See voorgekom het, asook in Wesfale rondom Münster en Lemgo. Dit is interessant hoe die gebruik van vanne en familiename in die Middeleeue toegeneem het. Vanne kon ’n aanduiding wees van ’n persoon se herkoms, familieverband, fisieke eienskappe, beroep of ambag. Die van Dreyer val in laasgenoemde kategorie en verwys na ’n ambag. Etimologies is Dreyer van die Nederduitse werkwoord dreien of dalk dregen afgelei, wat beide beteken “om te draai”. Die Engelse ekwivalent van Dreyer is Turner (sien Ojala 2012:210). Ojala se navorsing oor ambagte in die Middeleeue, veral in Noord-Duitsland, meld ’n ambag wat in Duits as ’n “Dreyer” bekend gestaan het en dui op ’n kunswerker wat met hout gewerk het. Dit het draaiwerk, houtsneewerk en beeldhouwerk ingesluit, asook die vervaardiging van meubelstukke, altare of rame waarin die kunswerke geplaas is. Benedikt Dreyer was dus letterlik ’n “draaier” wat veral eikehout as medium gebruik het. In die argief van Lübeck is variante van die van Dreyer te vind, te wete Dreyger, Dreiger, Dreier en Dreger (sien Thiesen 2014:312). Ek het in Wesfaalse argiefstukke verdere variante gevind, te wete Dreijer, Dreher en die Latynse weergawe Dreijerus. Vanselfsprekend was nie almal met die van Dreyer kunswerkers wat met hout gewerk het nie.

Daar kan tereg gevra word hoekom daar in ’n artikel op die lewe en werk van ’n onbekende kunstenaar gefokus word. Een rede is dat onlangse navorsing en internasionale konferensies toenemend aandag gee aan die rol en plek van kuns in die verloop van die Kerkhervorming (sien Wand 2008). ’n Tweede rede is die toenemende belangstelling in ’n geskiedenis van onder, ’n verhaal vanuit die perspektief van gewone en onbekende mense: Eerder as om die oorbekende verhale van beroemde leiers weer oor te vertel, word die verhale van randfigure of gewone alledaagse mense vertel. Metodologies is dit ’n uitdagende benadering, aangesien beskikbare data oor Jan Publiek beperk is, en dit kan die gehalte van die navorsing negatief beïnvloed.

Die geskiedenis van die Kerkhervorming is al dikwels beskryf. Die verhaal word gewoonlik met groot en breë kwasstrepe geskilder, met die beroemde mense wat op die voorgrond staan. Die Kerkhervorming gaan egter nie net om die bekende en beroemde historiese figure of oor heroïese gebeure nie. Die Kerkhervorming het ook klein verhale, die stories van gewone mense wat in die newels van die tyd verdwyn. Die Kerkhervorming het mense se lewens ingrypend verander. Hierdie bydrae vertel die klein verhaal van ’n byna-vergete kunstenaar wat die Kerkhervorming persoonlik ervaar en beleef het.

In die navorsing oor Benedikt Dreyer (sien Thiesen 2007:15–9) is daar verskil van mening oor (1) watter kunswerke aan Benedikt Dreyer toegeskryf kan word en (2) sy biografiese gegewens. Die eerste is reeds deur Tamara Thiesen (2007) in haar doktorale proefskrif en boek oor Benedikt Dreyer uitvoerig behandel. Haar noukeurige ontleding van Dreyer se styl, tegniese vaardighede en ontwerp het baie vrae beantwoord en dit word nie hier herhaal nie, afgesien van enkele verwysings na kunswerke wat ter sake is. Die fokus van hierdie bydrae is sy biografiese gegewens. Dit gaan oor die lewe en werk van Benedikt Dreyer in konteks van die 16de eeu.

Om Benedikt Dreyer se lewensloop en konteks te rekonstrueer was dit nodig om interdissiplinêr te werk te gaan. Insigte vanuit die vakgebiede kultuurgeskiedenis, kerkgeskiedenis en kunsgeskiedenis is met mekaar in verband gebring om die leemtes ten opsigte van sy biografiese gegewens aan te spreek, sy lewensloop in konteks van die vroeë 16de eeu te plaas en te peil wat die impak van die Kerkhervorming op hom en ander kunstenaars van Lübeck was.

 

2. Holstein en Lübeck aan die begin van die 16de eeu

Benedikt Dreyer is na 1480 in Lübeck gebore en het die grootste deel van sy lewe daar deurgebring. Lübeck is geleë in die Graafskap Holstein. Holstein was baie lank deel van die Deense magsgebied en het eers na die vereniging van Duitsland (1871) deel geword van die Duitsland soos ons dit vandag ken. Om Dreyer as ’n Duitser te beskryf (soos heelwat bronne dit doen), is anachronisties. Aan die begin van die 16de eeu het die mense van Holstein onder heerskappy van die Deense koningshuis gestaan. Holstein was nie net wat die politiek betref iets anders as Duitsland nie, maar ook in terme van taal. In Lübeck was Nederduits die algemene omgangstaal. Dit is redelik seker dat Dreyer se moedertaal Nederduits was. Europeërs het tot diep in die Moderne Era ’n groot verskeidenheid dialekte en streekstale gepraat, omdat die standaardisering van Duits, Nederlands en Frans nog in proses was. Sommige van die dialekte (soos Oudpruisies) het heeltemal uitgesterf en bestaan nog net in geskrewe dokumente. Nederduits was vir lank die algemene omgangstaal aan die Noordsee en in Wesfale (Becker-Cantario 1988:63–72). Nederduits is eers deur die loop van die 17de eeu as lingua franca deur Hoogduits verdring, veral onder invloed van die Lutherse Kerkhervorming.

Lübeck het ’n unieke posisie binne die Deense monargie se invloedsfeer beklee. In 1226 het keiser Frederick II Lübeck tot vrystad verklaar, wat beteken dat die stad beperkte selfstandigheid gehad het en teoreties onafhanklik van die Deense monargie en keiser kon funksioneer. In die praktyk was die situasie meer kompleks. Die koning het die omliggende gebied beheer en daarom ook inspraak in Lübeck behou. Vanaf die 14de eeu het Lübeck baie sterk ontwikkel met handelsbelange vanaf Engeland in die weste tot by Tallinn (Reval) in die ooste, op die grens van Rusland. Lübeck het as vrystad en kommersiële sentrum ’n dominante posisie aan die Noordsee en Baltiese See beklee. Die politieke mag en selfstandigheid van Lübeck het kort-kort tot konflik met die Deense koningshuis gelei, met verskeie oorloë waarin Lübeck gewoonlik (met die hulp van ander stede) die oorhand gekry het. Met die aanbreek van die 16de eeu het nuwe handelsroetes na die Amerikas en die Ooste oopgegaan en het Lübeck se mag en invloed gekwyn.

Dreyer het nie net die oorgang na die Kerkhervorming eerstehands beleef nie, maar ook die politieke spanning en konflik wat daarmee gepaard gegaan het. In Lübeck het die Kerkhervorming en politieke verset hand aan hand geloop, veral met die revolusionêre optrede van Jürgen Wullenwever. Wullenwever se optrede hou verband met die gewelddadige opstande wat tydens die Duitse Boere-opstand (1524–25) plaasgevind het, asook die optrede van die Anabaptiste in verskillende dele van Duitsland en Nederland.

’n Stad waarmee Lübeck uitgebreide handelsooreenkomste gehad het, was Münster in Wesfale. Münster is met geweld deur die Anabaptiste oorgeneem en hulle het van 1532 tot 1535 gepoog om ’n Bybelse teokrasie te implementeer. Die implikasie daarvan was dat die mag van die keiser, koning en laere vorste verwerp is. Vanselfsprekend het dit die argwaan van die Rooms-Katolieke én Lutherse owerhede gewek. Die Rooms-Katolieke en Lutherse leërmagte het die Anabaptiste met geweld onderdruk. Honderde Anabaptiste, ook in Münster, is tereggestel.

In Lübeck was die mense deeglik bewus van alles wat tydens die Boere-opstand en in Münster gebeur het. Te midde van wydverspreide politieke onrus en rebellie is Wullenwever as burgemeester van Lübeck verkies. In dieselfde jaar is koning Frederik I, die laaste Rooms-Katolieke vors, oorlede, en Wullenwever het dadelik begin om Lübeck se onafhanklikheid teenoor die Deense koningshuis te versterk (sien Di Venosa 2016:27–37). ’n Burgeroorlog het tussen die Rooms-Katolieke en Protestantse groeperinge uitgebreek. Beide wou seker maak dat die nuwe koning hulle godsdienstige oortuigings deel. Die Lutherse hervormingsbeweging het die oorhand gekry en Christiaan III is as koning gekroon. Hy het sy magsposisie baie vinnig gekonsolideer. Omdat hy ’n oortuigde Lutheraan was, het hy die Rooms-Katolieke biskoppe laat arresteer en kerklike eiendomme gekonfiskeer. Op dié wyse het hy die Lutherse Kerkhervorming kragdadig deurgevoer. Christiaan III het reeds in 1533 Holstein en Schleswig volledig oorgeneem en die twee hertogdomme aan sy jonger broers gegee om te regeer.

Teen 1539 was die proses van kerkhervorming in die Deense en Noorweegse gebiede grootliks afgehandel. Wullenwever en sy volgelinge was teen ’n sterk monargie gekant, en het in die opvolgingstryd teen Christiaan III standpunt ingeneem. Die koningsgesinde party het egter in Lübeck aan bewind gekom en Wullenwever is gevange geneem en as verraaier en Anabaptis gemartel en onthoof. Benedikt Dreyer was waarskynlik ’n toeskouer by die openbare teregstelling van Wullenwever. Hoe dit ook al sy, Dreyer het die politieke spanning, oorlog en Lübeck se oorgang na die Kerkhervorming eerstehands ervaar.

Was Dreyer ten gunste van die Kerkhervorming? Was hy uit oortuiging ’n Lutheraan? Dit wil tog so lyk, aangesien hy te midde van hierdie dramatiese gebeure in 1533 deur die Lutherse kerkleierskap as deel van die liturgiese hervorming aangewys is om die kansel in die Marienkirche in te bou en met houtsneewerk te versier, wat hy in 1534 voltooi het. Hy is ook in 1538 in die amp van Kirchenmaler aangestel (sien hier onder).

Daar is reeds verwys na die ekonomie en handelsbelange van Lübeck. Lübeck was die sentrum van die Hanseatiese handelsverbond (ook bekend as die Hansa). Die Hansa was ’n organisasie wat deur middel van ooreenkomste handel tussen die stede aan die Noordsee en Baltiese See bevorder en beskerm het. Gevolglik het daar heelwat geld deur die stad gevloei, wat daartoe bygedra het dat ’n groot aantal kunswerkers ’n bestaan in Lübeck kon maak. Daar was ’n aanvraag vir hulle produkte vanuit Denemarke, Swede en Rusland (Roosval 1909:275). Die lewensomstandighede in Lübeck en omgewing was egter wisselvallig. Tye van relatiewe voorspoed is afgewissel met tye van uiterste swaarkry.

Lübeck se welvaart is nie net deur die politieke en ekonomiese wisselvalligheid beïnvloed nie, maar ook deur klimaatsverandering en epidemies. Die Klein Ystydperk, wat aan die einde van die Middeleeue gelei het tot ’n daling in temperatuur, het groot misoeste veroorsaak. Die uitbraak van pestis suderosa (of sweetsiekte) in 1485, 1508, 1517, 1528 en 1551 het verwoesting in groot dele van Europa gesaai (sien Heyman en Cochez 2014). Sweetsiekte het op 30 Julie 1529 ook in Lübeck uitgebreek en heelwat van die burgery het gesterf. Die epidemie is deur skepe en handelaars vanuit Engeland na die noordkus van Europa versprei.5 Dit het vinnig deur Schleswig-Holstein, Denemarke, Noorweë, Swede en verder suid na Strasbourg, Keulen, Marburg en Frankfurt versprei. In Hamburg alleen het 1 100 mense binne enkele weke aan sweetsiekte gesterf. In Lübeck het dit gelei tot honderde sterfgevalle wat feitlik al die families in Lübeck geraak het. Daar was vrees en paniek, en baie mense het na die platteland gevlug wat Lübeck in ’n spookdorp verander het, maar ook die verspreiding van die epidemie versnel het. Sterfgevalle is nie aangeteken nie, as gevolg van die groot getal mense wat binne enkele dae en weke oorlede is. Talle jongmense tussen 16 en 20 was slagoffers van die epidemie. Met ’n totale bevolking van 25 000 in hierdie tyd, sou 1 000 sterfgevalle binne enkele dae ongelooflike trauma veroorsaak het. Of dit Benedikt Dreyer en sy gesin getref het, is onbekend.

Die orrel wat in 1477 in die Marienkirche ingebou is, het die vreemde bynaam Totentanzorgel gehad, omdat daar ’n afbeelding van die danse macabre langs die orrel geplaas is. Die danse macabre was ’n genre wat in die Laat Middeleeue in letterkunde, musiek en beeldende kuns ontwikkel het om mense daaraan te herinner dat epidemies sonder onderskeid enigeen kan tref, van die rykste tot die armste. Epidemies was die “groot gelykmaker”.6 Berndt Notke, ’n kunstenaar wat in 1435 in Lassan gebore is en in 1509 in Lübeck oorlede is, was bekend vir sy uitbeeldings van die danse macabre. Van sy bekendste werk word in die Niguliste-museum in Estland uitgestal.7 Vanselfsprekend sou die epidemies ook die kunswerkers van Lübeck se produksie (en inkomste) aan bande lê.

Die hooforrel in die Marienkirche is tussen 1516 en 1518 deur Martin Flor ingebou, en Benedikt Dreyer het die houtwerk, klankkas en versierings vir die orrel aangebring. Dit is dieselfde orrel waarvoor die beroemde Dieterich Buxtehude vanaf 1668 heelwat van sy groot orrelwerke gekomponeer het. Johann Sebastian Bach het in 1705 meer as 300 kilometer ver gestap om na Buxtehude se orrelspel te luister. Buxtehude se orrelspel het hom so beïndruk dat hy, op die orrel wat deur Flor en Dreyer gebou is, by Buxtehude musiekles geneem het. Dit was bepalend vir Bach se eie ontwikkeling en groei as komponis. Buxtehude is in 1707 in Lübeck oorlede.

Benedikt Dreyer het in stormagtige tye geleef. Hy het op die breuklyn van die Middeleeue en Moderne Era geleef. Die kerk, ekonomie en sosiopolitieke strukture het ingrypend verander. Epidemies het verwoesting gesaai. Dit is die konteks waarin hy as kunstenaar geleef en gewerk het.

 

3. Biografiese gegewens

Appuhn (1959:121) se artikel in die Neue Deutsches Biographie, Band 4 beskryf Benedikt Dreyer as “’n bekende en gerespekteerde kunstenaar” wat ’n groot deel van sy lewe in Lübeck deurgebring het. Ten spyte van sy bekendheid is dit nie so eenvoudig om sy biografiese gegewens uit argivale bronne te versamel nie. Verskeie kunshistorici het al probeer om dit te doen.

Daar bestaan uiteenlopende teorieë oor Benedikt Dreyer se herkoms en lewensloop. Sedert Adolph Goldschmidt in 1889 sy proefskrif oor die Lübeckse kunstenaars gepubliseer het (sien Thiesen 2007:15), is daar dikwels oor Dreyer se lewensloop navorsing gedoen. Meer onlangse voorbeelde hiervan is die werk van Max Hasse (kurator van die Heilige Annen Museum van 1948 tot 1976); Jan von Bonsdorff (professor in kunswetenskap aan Uppsala-universiteit); Tamara Thiesen (kunshistorikus en joernalis) en Anu Mänd (professor in kunsgeskiedenis aan die Universiteit van Tallinn in Estland). Biografiese inligting word verkry uit dokumentasie van Lübeck se stadsraad, korrespondensie, eiendomsregistrasies, testamente en hofstukke wat behoue gebly het. Dit is egter nie volledig nie en trek slegs die buitelyne van Dreyer se lewensverhaal. Dit kan egter deur menslike intuïsie en algemene kennis aangevul word.

Hasse (1982:55) bou sy rekonstruksie van Dreyer se herkoms en familiegeskiedenis op die eiendomsregisters van Lübeck. Dit begin in die jaar 1461 toe ’n weduwee, Marquard Hoghes, ’n huis (Pferdemarkt nr. 5) in Lübeck aangekoop het. Die huis het ook ’n kunsateljee/werkswinkel ingesluit. Die regte van ’n weduwee om onder bepaalde voorwaardes haar man se werkswinkel en besigheid voort te sit, is deur verskeie owerheidsregulasies (in Nederduits bekend as Schra) gewaarborg (sien Ojala 2012:202–5). Een van die regulasies was dat ’n weduwee met haar man se kunsateljee kon voortgaan indien sy kon bekostig om ’n kind, familielid of vakleerlinge in diens te neem. Sulke weduwees is as besonder hubaar beskou, en mans het dikwels verkies om eerder met ’n ouer weduwee te trou as met ’n jong meisie, omdat hulle met die besigheid van die weduwee kon voortgaan. Indien daar niemand was wat daarmee kon of wou voortgaan nie, het die weduwee ’n jaar tyd gehad om die besigheid se voorraad en gereedskap te verkoop.

Marquard Hoghes se huis en werkswinkel het in die hart van die kunstenaarskwartier gestaan, waar talle kunswerkers gewoon en gewerk het (Hasse 1982:51). Twee van haar dogters het waarskynlik saam met haar in die huis gebly, saam met hulle eggenotes wat beide kunswerkers was. Die een dogter, Geseke, is met ’n Dreyer getroud en die ander (haar naam is onbekend) met Hans van Cöln, ’n goudsmid. Pferdemarkt 5 was ’n bekende goudsmidswinkel. Volgens Hasse se teorie was Geseke Dreyer en haar man Benedikt Dreyer se ma en pa. Volgens hierdie rekonstruksie is hy na 1480 gebore en het hy volgens Hasse (1982:55) in Pferdemarkt 5 grootgeword.

Hoghes is in 1480 oorlede. Haar testament het bepaal dat haar dogter, Geseke Dreyer, Pferdemarkt 5 erf. Op daardie stadium was Geseke alreeds self ’n weduwee. Wanneer Geseke se man oorlede is, is nie bekend nie. Moontlik het hy redelik jonk gesterf, want daar is geen aanduiding dat hy enige kunswerke nagelaat het nie. Geseke is in 1490 oorlede. Haar testament het bepaal dat haar swaer, Hans von Cöln, Pferdemarkt 5 erf. Hasse gee geen verduideliking waarom Geseke die huis aan haar swaer, en nie aan haar seun (indien Benedikt haar seun is), bemaak het nie. Drie jaar later (1493) is Hans von Cöln ook oorlede, maar hy het op daardie stadium soveel skuld gehad dat Pferdemarkt 5 na die skuldeisers gegaan het. Dit is twee jaar later (1495) deur die bekende en welvarende kunstenaar Hinrik van dem Kroghe gekoop, wat ook Pferdemarkt 7 besit het. Van dem Kroghe het dus twee eiendomme langs mekaar besit (Hasse 1982:55).

Daar bestaan geen dokumentêre bewys dat Geseke en haar man ’n seun met die naam Benedikt (of enige ander kind) gehad het nie. Indien hulle kinderloos was (wat dikwels gebeur het as gevolg van die hoë sterftesyfer onder jong kinders), is dit vanselfsprekend dat Geseke Dreyer haar besittings aan haar swaer (en suster) sou nalaat. Hasse meen egter dat daar ’n seun moes gewees het, dat Benedikt Dreyer die seun van Geseke Dreyer is en dat hy in Pferdemarkt 5 grootgeword het. Die teorie berus egter op inligting uit ’n latere tyd. In 1522 (32 jaar na Geseke se dood) het Benedikt Dreyer die opdrag gekry om die Heilige Antonius-retabel te skep. In die dokument waarin dit vermeld word, word Benedikt Dreyer se adres as Pferdemarkt 5 aangegee. Op grond van hierdie inligting was Hasse daarvan oortuig dat Benedikt Dreyer se moeder Geseke Dreyer was.

Daar is egter ’n ander rede waarom Benedikt Dreyer in 1522 Pferdemarkt 5 as sy adres opgegee het. Hy is ongeveer 1510 (die presiese datum is onbekend) met Hinrik van dem Kroghe se dogter, Taleke, getroud. Soos reeds aangetoon, het Van dem Kroghe Pferdemarkt 7 besit en in 1495 ook Pferdemarkt 5 gekoop. Benedikt en Taleke het dus etlike jare by Benedikt se skoonvader in die Pferdemarkt-eiendomme gewoon en die werkswinkel gebruik. Benedikt het volgens die stad se eiendomsregisters eers in 1535 ’n huis in Hundestrasse aangekoop wat 20 jaar later (1555) weer verkoop is (sien Thiesen 2007:18).

Von Bonsdorff (1993:53), Thiesen (2007:315) en Mänd (2018:88–9) verskil met Hasse ten opsigte van sy rekonstruksie en sy uiteensetting soos hier bo aangebied, op grond van twee briewe (gedateer 1520 en 1522) wat Von Bonsdorff in die Niedersächsichen Archivverwaltung opgespoor het. Die briewe dui daarop dat Dreyer moontlik die seun van Hans en Cillye Dreyer kon wees, ’n egpaar wat in Lübeck woonagtig was. Hulle het ook twee ander seuns gehad wat in Tallinn8 woonagtig was, te wete Jurgen Dreyer (ook ’n beeldsnyer en skilder) wat in 1520 oorlede is en Hans (ook ’n kunswerker) wat in 1522 oorlede is. Von Bonsdorff was verder van mening dat Benedikt met Gretke getroud was, wat beide Thiesen en Mänd as foutief uitwys. Ander argivale bronne (Seeberg-Elverfeldt (red.) 1966:88–9) vermeld dat Gretke ’n suster van Benedikt was. Thiesen (2007:315) kom tot die gevolgtrekking dat daar nie ’n finale antwoord oor Benedikt Dreyer se familiegeskiedenis gegee kan word nie. 

Intussen, 25 jaar na Von Bonsdorff en 11 jaar na Thiesen, het Anu Mänd nuwe navorsing gedoen oor die rol wat vroue gespeel het om kunswerke in kerke te plaas (Mänd 2018). Sy het in Tallinn ’n testament van ’n Katherina Dreger ontdek wat sy op 11 Maart 1519 opgestel het (Mänd 2018:88–9). Soos hier bo vermeld, is Dreger ’n wisselvorm van Dreyer. 

Uit die testament word dit duidelik dat Katharina met Jurgen Dreyer getroud was, en dat hulle net een dogter (Katherinke) gehad het, wat betreklik jonk oorlede is. Jurgen Dreyer was van Lübeck afkomstig. Hy het in November 1511 die eed van getrouheid in Tallinn afgelê en daarmee burgerskap ontvang. Hy is reeds in 1507 in Tallinn tot die gilde van die Heilige Canute toegelaat, wat beteken dat hy toe reeds ’n meesterambagsman was. Daar word na hom verwys as Meister Meler – meesterskilder. Hy moes egter ook ’n opgeleide “draaier” gewees het, want Katharina Dreyer se testament verwys na beelde wat haar man uit hout gesny het. Hy was waarskynlik nie baie suksesvol nie, want daar bestaan geen bronne wat verwys na enige opdragwerke wat hy geskep het nie, en hulle het nooit ’n huis in Tallinn besit nie. Jurgen en Katharina Dreyer is kort na mekaar tussen 1519 en 1520 oorlede. Hans Dreyer, wat ook in Tallinn gewerk het, is tussen 1520 en 1522 oorlede. 

Soos reeds vermeld, is Katharina en Jurgen se dogter vroeg oorlede, daarom het Katharina sonder erfgenaam gesterf. In die argief van Lübeck is daar dokumente (sien Mänd 2018:88) wat toon dat die Stadsraad van Lübeck in Julie 1520 besluit het dat Jurgen Dreyer se broer en suster, Benedikt en Gretke, die roerende goedere kon erf. Benedikt is ook as een van die eksekuteurs van Katharina se boedel aangewys. Die ouers van Jurgen, Hans en Cillye, was toe reeds oorlede. Katherina Dreyer is volgens die bepalings van haar testament langs haar man in die Heilige Nicholas-kerkhof begrawe. Die kunswerke van Jurgen wat nog in haar besit was, het sy aan verskillende kerke bemaak. Jurgen se gebedskrale van rooi jaspis is aan Benedikt bemaak. Teen 1520 was hulle nog goeie Rooms-Katolieke.

In die lig van Hasse en Von Bonsdorff se rekonstruksies en haar eie navorsing is Mänd se hipotese dat daar moontlik twee Benedikt Dreyers in Lübeck kon gewees het. Dit is egter onwaarskynlik. Die feit dat Jurgen Dreyer ook ’n beeldsnyer was, maak dit meer waarskynlik dat hy die broer van die bekende Benedikt was. Destyds is ambagte binne familieverband beoefen. Dit is ook moontlik dat Geseke Dreyer en haar man familie van Benedikt was, dalk ’n oom en tante. Moontlik was Hans Dreyer, Benedikt se pa, die broer van Geseke Dreyer se man. Moontlik was Hans Dreyer en sy broer ook Dreyers (draaiers) gewees.

 

4. My eie rekonstruksie van Benedikt Dreyer se lewensloop

Hier volg nou my eie rekonstruksie van Benedikt Dreyer se lewensloop op grond van bogenoemde bronne.

Benedikt Dreyer is ongeveer 1480 in Lübeck gebore. Sy ouers was Hans en Cillye Dreyer. Hy het twee broers gehad, Jurgen en Hans, en ’n suster Gretke. Indien Hans Dreyer ook ’n houtwerker was, sou Benedikt en sy twee broers, soos gebruiklik, reeds op ’n jong ouderdom saam met hulle pa gewerk het en bepaalde vaardighede aangeleer het. 

Volgens Hasse (1982:62) en Thiesen (2007:18) het Benedikt deur die loop van 1502 na Lüneburg vertrek. Lüneburg is sowat 90 km suid van Lübeck geleë. Hy het by die Lüneburg Gesellschaft verdere opleiding gehad. Hy het saam met Hans Witte, van Pferdemarkt 11, na Lüneburg gegaan (Hasse 1982:62). Thiesen (2007:18) toon aan dat Benedikt van herfs 1505 tot herfs 1507 in Lüneburg as Ghesellen Schaffer werksaam was. Dit beteken dat hy ’n belangrike amp beklee het, waarskynlik as Meister verantwoordelik vir die opleiding van vakleerlinge. Na sy vertrek uit Lüneburg het Witte hom in die amp opgevolg.

Thiesen (2007:307) is op grond van stilistiese analise van Dreyer se werk oortuig daarvan dat hy van Lüneburg na die suide van Duitsland (Ulm en Swabe) gereis het en ’n paar jaar daar deurgebring het, waarskynlik tussen 1507 en 1510. Daar is uiteenlopende menings of daar ’n Suid-Duitse invloed in sy kunswerke aangetoon kan word. Thiesen is egter daarvan oortuig dat hy ’n tyd lank by die bekende Tilman Riemenschneider in Würzburg gewoon en gewerk het. Sy dui talle ooreenkomste tussen Riemenschneider en Dreyer se werk aan, wat oortuigend daarop dui dat Dreyer lank genoeg by Riemenschneider gewerk het om deeglike kennis van sy werk te verkry.

In 1510 vertrek Dreyer (toe 30 jaar oud) na Lübeck, waar hy reeds in 1512 as meesterambagsman toegelaat is om sy eie werkswinkel oop te maak. Hy is in hierdie tyd met Taleke van dem Kroghe, die dogter van die eienaar van Pferdemarkt 5, getroud. Hy is in 1538 in die amp van Kirchenmaler aangestel, soos blyk uit die 1540- finansiële register van die Marienkirche (Folio 259 van 1540, sien Thiesen 2007:315) waarin vermeld word (in Nederduits, nie Latyn nie) dat die “beldesnider benedictus Dreyer vor dat Münster” (die “beeldsnyer Benedikt Dreyer vir die kerk”) bepaalde kunswerke moes lewer. Die amp het skilderwerk, beeldhouwerk, houtsneewerk en goudsmidswerk ingesluit. Dit was dus ’n omvangryke opdrag. Op hierdie stadium het Lübeck reeds na die Kerkhervorming oorgegaan, wat beteken dat Dreyer bepaalde erkenning van die Lutherse kerkleieierskap geniet het. 

In 1535 koop Benedikt Dreyer sy eie huis in Hundestrasse (Thiesen 2007:18). Benedikt en Taleke het waarskynlik drie seuns gehad, van wie een (Christopher) in 1555 betrokke was by die verkoop van Dreyer se huis in Hundestrasse (sien in dié verband Thiesen 2007:315, waar sy onder andere Goldschmidt en Hasse aanhaal). Benedikt was in 1555 al bejaard, en hy is in hierdie tyd oorlede.

Indien my rekonstruksie van Benedikt Dreyer se lewe korrek is, beteken dit dat Geseke Dreyer en haar man nie ’n nageslag gehad het nie; ook nie Benedikt se broers Jurgen en Hans nie. Dit beteken dat die Dreyer-familie van Lübeck van Hans en Cillye Dreyer en hulle seun Benedikt afstam. Dit impliseer dat Benedikt Dreyer ’n voorsaat van die Suid-Afrikaanse Dreyer-familie is. Indien Benedikt Dreyer die naamgeetradisie gevolg het, sou sy oudste seun na oupa Hans geheet het. Destyds was dit algemene gebruik om die naam Hans te verander na Johannes. Dit verklaar die gereelde voorkoms van die naam Johannes in die stamboom van die Dreyerfamilie.

 

5. Enkele opmerkings oor Benedikt Dreyer as kunstenaar 

’n Belangrike stimulus vir navorsing oor Benedikt Dreyer was die bevestiging uit argivale bronne dat die Heilige Antonius-retabel die werk van Benedikt Dreyer was. Dit het as oriëntasiepunt gedien en kunshistorici gehelp om op grond van tegniese en stilistiese ooreenkomste ander kunswerke van Dreyer te identifiseer. Dit het gelei tot konsensus onder kunshistorici dat Dreyer ’n begaafde kunstenaar was, dat sy kuns ’n belangrike voorbeeld van Laat-Gotiese kuns in Noord-Duitsland is, en dat dit onafhanklik van die Italiaanse Renaissance ontwikkel het (Wixom 2007:3). Daar het slegs ’n beperkte aantal van sy kunswerke behoue gebly, veral te wyte aan die skade wat tydens die Tweede Wêreldoorlog aan kerkgeboue aangerig is. Die Marienkirche in Lübeck, wat heelwat van sy werk bevat het, is tydens die Geallieerde lugaanvalle (28 Maart 1942) ernstig beskadig. Dit was ook die geval met ander kunstenaars se kunswerke.

’n Gedeelte van die Heilige Antonius-retabel9 

Die Heilige Antonius-retabel (sien foto hier bo), is ’n goeie voorbeeld van ’n retabel. Retabels is liturgiese skilder- en beeldhouwerk wat uit drie panele met skarniere bestaan en toegevou kan word. Die Rooms-Katolieke teologie was sakramenteel van aard, met die klem op die bediening van die sakramente by die altaar. Daarom was die retabels wat vir die altaar geskep is, belangrik. Vir elke periode in die kerklike jaar (Kersfees, Paasfees, Pinkster en ander feesdae) is daar verskillende retabels geskep wat bepaalde momente in die Bybelse of kerklike geskiedenis uitgebeeld het. Gewoonlik bestaan ’n retabel uit ’n middelste paneel wat beeldhouwerk bevat, en twee opvoubare kantpanele wat skilderye is. Die panele word toegevou en gesluit en dan kan die retabel veilig gebêre word tot dit weer benodig word. Retabels is dikwels in die Rooms-Katolieke liturgie gebruik en het heelwat werk aan kunstenaars verskaf. Met die Kerkhervorming het retabels in onbruik geraak. 

Die Antonius-retabel getuig nie net van tegniese en stilistiese vaardigheid nie, maar ook van die funksionele aard daarvan in terme van die liturgie en vestiging van ’n bepaalde spiritualiteit. Dit is ’n goeie voorbeeld van die sogenaamde narratiewe styl wat baie in Rooms-Katolieke kerke te sien is (Wixom 2007:3–4). Gregorius die Grote, wat van 590 tot 604 nC as pous gedien het, het daarop aangedring dat kerklike kuns ’n verhaal moet vertel en die brug na religieuse ervaring moet bou. Die bedoeling van Middeleeuse kuns was om die geskiedenis van die kerk en bepaalde leerstellings uit te beeld, maar veral die verhale te vertel wat mense sou inspireer om met Bybelse figure – veral met Christus – te identifiseer. Hierdie benadering en standpunt is by die Tweede Ekumeniese Konsilie van Nicea (787 nC) bevestig (Wixom 2007:4).

Die narratiewe styl maak gebruik van tekste uit die Bybel en apokriewe geskrifte asook religieuse legendes, wat omskep word tot visuele verhale. Dit was bedoel om by gelowige toeskouers ’n empatiese respons op te wek en hulle te laat voel dat hulle deel is van die verhaal wat daar afspeel. Daarom is daar baie klem op emosie geplaas, wat in die liggaamshouding en gesigsuitdrukkings van die beelde na vore kom. 

Een van die vroegste werke van Benedikt Dreyer, of wat uit sy werkswinkel gekom het, is die Gnadenstuhl, ’n beeld van God die Vader wat sy Seun na die kruisiging in sy arms hou, wat vir die Heilige Gees-hospitaal gemaak is.10 Volgens Hasse (1982:283) is dit ’n vroeë werk van Dreyer. Volgens Thiesen (2007:298–302) is dit op grond van tegniese en stilistiese oorwegings nie Dreyer se eie werk nie, maar eerder dié van ’n leerling van Berndt Notke wat hom na Notke se dood in 1509 by Benedikt Dreyer se werkswinkel aangesluit het en beide Notke en Dreyer se invloed weerspieël. Op grond hiervan dateer sy die kunswerk tussen 1510 en 1511. Die kunswerk is deel van die permanente uitstalling van die Heilige Annen Museum. Anders as die gewone Rooms-Katolieke Piëta waar die Moeder Maria die gestorwe Christus vashou (byvoorbeeld die beeld deur Michelangelo in die Petruskerk in Rome), is dit die Vader wat sy Seun vashou. Die teologiese belang hiervan, veral die uitdrukking van smart op die gesig van die Vader, kan nie onderskat word nie.

Benedikt Dreyer se Gnadenstuhl11 

Die teologiese diepgang van hierdie kunswerk is aangrypend. Dit is nie net die passio van Christus wat treffend uitgebeeld word nie, maar ook die compassio van God die Vader met menslike lyding. Dit was heel gepas vir ’n hospitaal vol siek mense, veral in die tye van epidemies. Terselfdertyd beeld dit iets van die eenheid tussen die Vader en die Seun uit, nie net in die manier waarop die Vader die Seun vashou nie, maar ook hoe hulle koppe in dieselfde rigting gebuig is. In ander soortgelyke komposisies verskyn die Heilige Gees as ’n duif, wat ’n uitbeelding van die Drie-eenheid is. Die Bybelse gegewens van Jesus se lyding aan die kruis, die eenheid van God en die Goddelike medelye met menslike lyding word op ’n aangrypende wyse uitgebeeld. Dit gryp ook reeds vooruit, want soos Christus uitgebeeld word, is een deel van sy liggaam dood en die ander is lewend. Die Christusfiguur is tegelykertyd dood en lewend, Hy het gesterf maar ook opgestaan uit die dood. Indien aanvaar word dat Dreyer die skepper van die Gnadenstuhl is, of dat dit ten minste onder sy leiding geskep is en uit sy werkswinkel gekom het, vertoon dit op ’n aangrypende wyse nie net Dreyer se vermoë om deur kunswerk bepaalde emosie uit te beeld nie, maar ook sy vermoë om kernelemente van die Christelike geloof op ’n visuele wyse oor te dra.

Dreyer se beeld Joachim und Anna am Goldenen Tor (Meeting of Joachim and Anna at the Golden Gate)12 wat in die Metropolitan Museum of Art in New York opgeneem is, is ’n klassieke voorbeeld van die narratiewe styl. Dit dateer waarskynlik uit tussen 1515 en 1520. Die beeld is uit eikehout gesny, met die gesigte en klere wat geverf is. Die beeld vertel die verhaal uit die Proto-evangelie van Jakobus (hoofstuk 4), waar Joachim en Anna, die ouers van die latere Moeder Maria, se aankoms in Jerusalem by die Goue Poort beskryf word. Hulle word oorval met emosie, omdat hulle hoor dat hulle ’n kind sal hê wat die moeder van die Messias sal wees. Dreyer se gawe as storieverteller en sy belangstelling in animasie word in hierdie beeldhouwerk gekombineer met ’n robuuste beeldhoustyl. Hy slaag op ’n besonderse manier daarin om Joachim en Anna se liefde vir mekaar (die manier waarop hulle mekaar omhels en hande vashou) en hulle emosie van dankbaarheid en nederigheid op hulle gesigte vas te vang. Die drama van die gebeure word vasgevang in die manier waarop hulle kledingstukke drapeer en op ’n hoekige wyse weg vou (sien Wixom 2007:36).

Joachim en Anna by die poorte van Jerusalem13

 

6. Kerkhervorming

Nadat Martin Luther se 95 stellings teen die aflaat in 1517 algemeen bekend geword het, het die Kerkhervorming soos ’n veldbrand deur Noord-Europa versprei. Met die oorgang na die Kerkhervorming het die vraag na kerklike kuns verminder, maar tog nie heeltemal verdwyn nie (sien in dié verband Wand 2008:345–70). Protestantse ekstremiste (byvoorbeeld Karlstadt se volgelinge) het op baie plekke kunswerke vernietig. Op ander plekke is dit verwyder en terugbesorg aan die oorspronklike donateurs. Terselfdertyd het nuwe kunsvorms ontwikkel, soos houtsneewerk op kansels, en veral afdrukke in boeke. Dit het saamgehang met die opkoms van die boekdrukkuns en die Kerkhervormers se geweldige ywer om boeke te skryf en te publiseer om hulle gedagtes te versprei en mense op te voed. Baie van die bekende kunstenaars van die tyd (soos Lucas Cranach) se kuns het veral in boeke en in Bybels verskyn.

Die leiers van die Kerkhervorming was gekant teen die kunswerke wat in kerke te sien was, omdat dit ’n uitdrukking van Rooms-Katolieke spiritualiteit was en die verering van heiliges en die aanbidding van Moeder Maria bevorder het. Hierdie negatiewe houding teenoor kerklike kuns het beteken dat nuwe kunswerke vir plasing in kerke byna tot stilstand gekom het. Dit het die inkomste van die kunswerkers ernstig benadeel. In Lübeck het die meeste van hulle as gevolg van die Kerkhervorming hulle inkomste en huise verloor, soos blyk uit eiendomstransaksies van die tyd (Hasse 1982:55).

Die geskiedenis van die Kerkhervorming in Lübeck is ten nouste gekoppel aan Johannes Bugenhagen,14 ’n pastor en persoonlike vriend van Martin Luther. Bugenhagen het ’n aandeel daarin gehad om die Lutherse Kerkhervorming in die loop van 1529 en 1530 in Lübeck deur te voer. Hy het ook die kerkorde vir Lübeck opgestel wat die Lutherse Kerk op ’n vaste baan geplaas het. Thiesen (2007:263) verwys na Bugenhagen se kerkorde wat in Nederduits geskryf is en op 27 Mei 1531 in Lübeck van krag geword het. Een van die artikels in Bugenhagen se kerkorde het bepaal wat met die Bylden (beelde) in die kerke moes gebeur. Die artikel sê onder andere: “Wi bekennë dat wy in unsen kercken vele lögenbylde und vele unnütte klotze hebben … doch dat wy nicht mögen byldestormer syn …” (sien volledige aanhaling van die kerkorde-artikel in Thiesen 2007:263). Dit kan soos volg vertaal word: “Ons bely dat ons in ons kerke baie beelde het wat God loën en nuttelose gemors is … nogtans is ons nie beeldestormers nie …” 

Dit is duidelik dat Bugenhagen in hierdie artikel Luther se opvatting navolg, naamlik dat beelde en afbeeldings nie per se verkeerd of ’n oortreding van die Tien Gebooie is nie. Die bedoeling van die beeld moet in ag geneem word en daar moet bepaal word of dit in ooreenstemming met die Heilige Skrif en die evangelie is. Hierdie gematigde houding ten opsigte van kerklike kuns het meegebring dat Lutherse kerke meer kunswerke as Calvinistiese kerke behou het. Dit het ook daartoe bygedra dat kunstenaars nog in ’n beperkte mate kuns aan die kerke kon lewer.

Dit was ook die geval met Benedikt Dreyer, soos blyk uit die opdrag wat hy in 1533 ontvang het om ’n kansel15 vir die Marienkirche te bou. Dit is in 1534 voltooi, slegs drie jaar nadat die Kerkhervorming in Lübeck deurgevoer is (Thiesen 2007:235). Hy ontvang dié opdrag slegs 16 jaar na Luther se beroemde stryd teen die aflaathandel in 1517. Die kansel is van besondere historiese belang omdat dit algemeen aanvaar word dat dit die eerste kansel was wat spesifiek vir die doeleindes van die Lutherse liturgie en prediking vervaardig is. Die kansel is nie net die oudste Lutherse kansel nie, maar ook een van die belangrikste Noord-Duitse kunswerke wat tydens die Kerkhervorming geskep is. Die kansel kan beskou word as die “monument” wat die begin van die Kerkhervorming in herinnering roep. 

Die opdrag wat Dreyer ontvang het, het bepaal dat die kansel met kuns versier moes word wat Christus, die apostels en profete in terme van die Lutherse verstaan van die evangelie uitbeeld. Die Lutherse invloed is opsigtelik in die wyse waarop Dreyer die reliëf op die kansel laat aansluit by die houtsnee-afdruk van Erhart Altdorfer wat op die titelblad in Bugenhagen se Nederduitse vertaling van die Bybel verskyn het. Dié Nederduitse Bybel was algemeen bekend in Lübeck. Altdorfer se houtsnee van Die regverdiging sluit aan by die bekende Lutherse kunstenaar Lucas Cranach se uitbeelding daarvan. Op dié wyse het Benedikt Dreyer op ’n indirekte wyse by Cranach aangesluit Thiesen 2007:272).

Die eerste Reformatoriese kansel – die monument van die Kerkhervorming16

Een van die fundamentele verskuiwings wat tydens die Kerkhervorming plaasgevind het, was die verandering in liturgie. Latyn het as liturgiese taal verdwyn en is vervang met die plaaslike spreektaal; die getal sakramente is verminder en prediking het die sentrale element van die liturgiese handelinge geword. Dit het beteken dat die kerkgeboue wat van die Rooms-Katolieke Kerk gekonfiskeer is, met kansels toegerus moes word wat op ’n sentrale plek staan, sodat al die teenwoordiges die prediker kon sien en hoor.

Die kansel is onder toesig van Benedikt Dreyer deur sy vakleerling Jacob Reyge gebou. Die nuutste navorsing dui daarop dat Dreyer self die artistieke gedeeltes geskep het (Thiesen 2007:17). Die kansel is in 1699 uit die Marienkirche verwyder en aan die kerk in Zarrentin verkoop, waar dit steeds gebruik word. Die houtsneewerk wat op die kansel aangebring is, vertoon ’n tipies Lutherse interpretasie van Bybelgedeeltes. Benedikt Dreyer het die beginsels van die Kerkhervorming in sy kuns verbeeld. Daarmee is die oorgang van ’n Rooms-Katolieke teologie en spiritualiteit na ’n Reformatoriese teologie en spiritualiteit ook in Benedikt Dreyer se kunswerk aantoonbaar.

 

7. Slotopmerkings

Die geskiedenis van die Kerkhervorming in die noorde van Europa is in Suid-Afrika onbekend, ten spyte van die feit dat sommige kerke hulleself Gereformeerd of Hervormd of Protestants noem. As mens in gedagte hou dat ’n beduidende deel van die vroeë Europese immigrante aan die Kaap van Goeie Hoop van Noord-Europa afkomstig was, is dié gebrekkige kennis verbasend. In Suid-Afrika word die geskiedenis van die Kerkhervorming toenemend gereduseer tot ’n paar algemene opmerkings oor Luther en Calvyn, asof dit die totaliteit van die Kerkhervorming was.

Die Kerkhervorming was ’n diverse beweging wat op uiteenlopende maniere in verskillende streke neerslag gevind het. Dit het gewone mense se alledaagse bestaan op ’n baie direkte manier verander. Die klein verhale van mense wat in die tyd van die Kerkhervorming geleef het, is in Suid-Afrika onbekend. Dit is eers wanneer ’n mens die lewe van onbekende individue ontrafel, dat jy besef hoe ingrypend en radikaal die Kerkhervorming die Europese samelewing verander het. Dit was ook die geval met Benedikt Dreyer.

 

Bibliografie 

Andersen, P. (red.). 2012. Law and marriage in medieval and early modern times: Proceedings of the eighth Carlsberg Academy conference on medieval legal history 2011. Kopenhagen: DJØF Publishing.

Appuhn, H. 1959. Dreyer, Benedikt. Neue Deutsche Biographie, 4:121–2. http://www.deutsche-biographie.de/pnd130017442.html (25 Januarie 2020 geraadpleeg). 

Becker-Cantario, B. 1988. Low German as a literary language in Schleswig-Holstein in the seventeenth century: A poem by Anna Ovena Hoyers. In Jazayery (red.) 1988. 

Christiansen, J. 2009. The English sweat in Lübeck and North Germany, 1529. Medical history, 53(3):415–24. DOI:10.1017/s0025727300004002. https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC2706052 (12 Maart 2020 geraadpleeg).

Di Venosa, E. 2016. Lübeck’s burgomaster Jürgen Wullenwever and Denmark. In Meregalli (red.) 2016.

Hasse, M. 1982. Das Verhalten der Lübecker Maler und Bildschnitzer während der Krisenzeit zu Anfang des 16. Jahrhunderts nebst einem Verzeichnis der damaligen Mitglieder des Lübecker Maleramts. Zeitschrift des Vereins für Lübeckische Geschichte und Altertumskunde, 62:49–68.

Heyman, P.S.L. en C. Cochez. 2014. Were the English sweating sickness and the Picardy sweat caused by hantaviruses? Viruses, 6(1):151–71.

Hsia R. P.-C. (red.). 2008. The Oxford history of Christianity. Reform and expansion 1500–1660. Cambridge: Cambridge University Press.

Jazayery, M.A. (red.). 1988. Languages and cultures. Trends in linguistics. Studies and monographs 36. Berlyn: Mouton de Gruyter.

Mänd, A. 2018. Women shaping sacred space: Case studies from early 16th century Lübeck and Tallinn. In Petermann (red.) 2018.

Meregalli, A. (red.). 2016. Bridges to Scandinavia. Milaan: Ledizioni. http://books.openedition.org/ledizioni/7905 (15 April 2020 geraadpleeg).

Ojala, M. 2012. Widows’ opportunities to continue craft trade in Northern Baltic cities during the 15th and 16th centuries. In Andersen (red.) 2012.

Oosthuizen, A.J.G. 2003. Die Dreyer familie, met besondere verwysing na Thomas Frederik Dreyer (1860) en Martha Francina Dreyer (gebore Oosthuizen) se nageslag. Ongepubliseerde dokument te vind by Kerkargief Ned. Hervormde Kerk van Afrika, Pretoria asook spesiale Versameling, Merensky Biblioteek (Vlak 5 Rak ZA 929), Universiteit van Pretoria.

Petermann, K. (red.). 2018. Hansische Identitäten. Petersberg: Michael Imhof Verlag.

Roosval, J. 1909. Benedikt Dreyer. Ein Lübecker Bildschnitzer Im Anfang des XVI. Jahrhundert. Jahrbuch der Königlich Preussischen Kunstsammlungen 30:271–82. www.jstor.org/stable/25168694 (29 April 2020 geraadpleeg).

Seeberg-Elverfeldt, R. (red.). 1966. Revaler Regesten, Vol. 1. Beziehungen der Städte Deutschlands zu Reval in den Jahren 1500–1807, 124 (1520). Göttingen: Vandenhoeck en Ruprecht.

Thiesen, T. 2007. Benedikt Dreyer. Das Werk des spätgotischen Lübecker Bildschnitzers. Kiel: Ludwig.

Von Bonsdorff, J. 1993. Kunstproduktion und Kunstverbreitung im Ostseeraum des Spätmittelalters. Helsinki: Helsingfors.

Wand, L.P. 2008. Reformation and the visual arts. In Hsia (red.) 2008.

Wixom, W.D. 2007. Late medieval sculpture in the Metropolitan 1400 to 1530. The Metropolitan Museum of Art Bulletin, 64(4):1–48.

 

Eindnotas

1 Hiermee word die hulp en ondersteuning van die personeel van die Heilige Annen Museum in Lübeck asook die ondersteuning van Johannes à Lasco Instituut (Emden) erken.

2 Benedikt Dreyer is nie net belangrik in terme van die Laat-Middeleeuse kunsgeskiedenis nie, maar is ook ’n interessante figuur in Suid-Afrikaanse genealogiese navorsing. Hy is die sesde-geslag-voorsaat van Johannes Augustus Dreyer, die stamvader van die Suid-Afrikaanse Dreyer-familie, wat in 1713 in Kaapstad voet aan wal gesit het. Daar is deur middel van uitgebreide genealogiese navorsing vasgestel dat die stamvader van die Suid-Afrikaanse Dreyers uit Lübeck afkomstig was (sien Oosthuizen 2003). Daar kan ook met sekerheid aangetoon word dat die Dreyer-familie vanaf die 16de eeu in Lübeck gewoon en gewerk het. Hulle het as ambagsmanne en handelaars ’n bestaan gemaak. Daar is egter verdere argivale navorsing nodig om dit bo alle twyfel te bevestig, veral ten opsigte van die gebrekkige inligting oor Benedikt Dreyer se seuns. Die navorsing sal ter plaatse in Lübeck se kerklike en munisipale argief gedoen moet word. Ook testamente en hofsake kan inligting bied, maar dit is moeilik toeganklik.

3 ’n Virtuele besoek aan die Heilige Annen Museum is moontlik by https://www.die-luebecker-museen.de/rundgang/st_annen/output/St_Annen_Remter_out_HTML5.html.

4 Ek gebruik doelbewus die woord kunswerker as vertaling vir die Engelse woord artisan, omdat in die Laat-Middeleeue kunstenaars eintlik ambagsmanne was. Baie min van hulle het hulle name by ’n kunswerk gevoeg. Kunswerkers sluit ambagslui in soos yster-, silwer- en goudsmede; skilders; klipkappers en beeldhouers; graveerders; houtsnyers en houtwerkers. Hulle was in status deel van die middelklas en het dikwels eiendom besit. Baie van hulle het in vergetelheid verdwyn; ander se werk was van sulke artistieke waarde en skoonheid dat hulle nie net as ambagsmanne nie, maar as kunstenaars in die volle sin van die woord beskou moet word.

5 Sien die beskrywing van hierdie epidemie in Christiansen (2009).

6 ’n Afbeelding van die danse macabre in die Marienkirche is te sien by https://en.wikipedia.org/wiki/St._Mary%27s_Church,_L%C3%BCbeck.

7 Vir ’n virtuele besigtiging van Notke se beroemde werk sien http://koko.ee/en/project/252-dance-of-death.

8 Tallinn is die hoofstad van Estland, 1 800 km oos van Lübeck. In die Duitse wêreld word daar somtyds na Tallinn verwys as Reval, daarom dat die Duitse bronne na die registers van Tallinn verwys as die Revaler Regesten. Dit sou nie vreemd wees dat mense van Lübeck na Tallinn verhuis nie, aangesien die twee stede ’n goeie handelsverhouding gehad het met heelwat verkeer tussen hulle.

9 Foto uit die privaatversameling van die skrywer.

10 Foto’s van kunswerke wat saam met hierdie bydrae verskyn is met toestemming van die Heilige Annen Museum in Lübeck deur die skrywer geneem. Die hulp en ondersteuning van die personeel van die Heilige Annen Museum word hiermee met dank erken.

11 Foto uit die privaatversameling van die skrywer.

12 Die Joachim en Anna-beeld is te besigtig op die webblad van die Metropolitan Museum by https://www.metmuseum.org/art/collection/search/463816.

13 Foto verkry vanaf die publieke domein van die Metropolitan Museum in New York, by https://www.metmuseum.org/art/collection/search/463816.

14 Bugenhagen het besonder baie moeite gedoen om die gebruik van Nederduits te bevorder, onder andere deur Bybelvertaling.

15 ’n Virtuele besigtiging van die kansel, wat tans in die Lutherse Kerk in Zarrentin staan, is moontlik op die webblad van die gemeente by http://kulturkirchen.org/kirchen/5c8a88126434650005d70000/Dorfkirche%20St.%20Petrus%20und%20St.%20Paulus.

16 Foto te kry op die webblad van die Evangeliese Lutherse Kerk van Zarrentin by http://kulturkirchen.org/kirchen/5c8a88126434650005d70000/Dorfkirche%20St.%20Petrus%20und%20St.%20Paulus.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Benedikt Dreyer (1480–1555): Kunstenaar in konteks van die Kerkhervorming appeared first on LitNet.


Riglyne vir die mediëring van omstrede kwessies in Nederlandse en Afrikaanse jeugverhale

$
0
0

Riglyne vir die mediëring van omstrede kwessies in Nederlandse en Afrikaanse jeugverhale

Elize Vos, Skool vir Taalonderwys, Fakulteit Opvoedkunde, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)
Janneke de Jong-Slagman, Driestar Educatief, Gouda, Nederland
Ronel van Oort, Skool vir Taalonderwys, Fakulteit Opvoedkunde, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)

LitNet Akademies Jaargang 17(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Moraliteit is weens die verskeidenheid van mense se uiteenlopende en teenstrydige perspektiewe ’n ingewikkelde begrip om te verklaar. Hedendaags is die voorkoms van omstrede kwessies wêreldwyd ’n algemene neiging in jeugliteratuur.1 Die taalonderwyser2 bly steeds een van die belangrikste rolspelers ten opsigte van die moontlike vestiging van ’n moraliteitsbewussyn by jeugdiges.

In hierdie artikel word die algemene aard van jeugdiges kortliks bespreek en voorts word omstrede kwessies in Nederlandse en Afrikaanse jeugverhale vanuit ’n politieke, religieuse, filosofiese, onderwys- en gesinsperspektief belig.

’n Historiografiese benadering word gevolg om omstrede temas in jeugverhale binne die Nederlandse en Afrikaanse sosiopolitieke kontekste waarin hierdie verhale ontstaan het, te belig (Fokkema 1995; Cloete 1992), aangesien literêre genres, soos jeugverhale, volgens Fokkema en Bertens (1997) historiese en sosiopolitieke veranderinge toon en daardeur beïnvloed word. Die historiografiese beskrywing word kortliks aan die hand van ’n transhistoriese benadering gedoen wat algemeenhede binne spesifieke periodes identifiseer sonder om ’n oorsigtelike transhistoriese weergawe in breë trekke aan te bied (Vaessens 2013). Hierdie historiografiese agtergrondkennis kan tot verryking van die voornemende taalonderwyser strek en internasionale blootstelling bied.

Die moontlike mediëring van omstrede jeugverhale kan die Nederlands- en die Afrikaanstaalonderwyser in die klaskameromgewing onseker laat, aangesien daar uiteenlopende sienswyses (hoofsaaklik as gevolg van die aanhang van die angs- en katarsisteorieë) oor die blootstelling van omstrede kwessies in jeugliteratuur aan jeuglesers bestaan.

Die taalonderwyser, as medieerder, kan leerders in ’n geborge klaskameromgewing aan die hand van die voorgestelde riglyne (vergelyk paragraaf 5) tot ontwikkeling as kritiese en probleemoplossende lesers begelei, waarop selfgerigte vryetydlees moontlik kan volg.

Trefwoorde: Afrikaanse jeugverhale; angsteorie; katarsisteorie; mediëring; moraliteit; Nederlandse jeugverhale; omstredenheid; riglyne

 

Abstract

Guidelines for mediating controversial issues in Dutch and Afrikaans youth stories

Morality is a complicated concept to explain because of people’s diverse and contradictory perspectives on diverse aspects such as socio-political, economic and cultural circumstances. However, in the simplest way morality is an individual and subjective consciousness of right or wrong. Today, the prevalence of controversial issues worldwide is a general trend in youth literature.1

The genre of youth stories is not clearly definable, but it was a term used in the late 1960s to refer to literary texts written exclusively for young readers between the ages of about 12 and 18 years or used by adults as considered suitable for youth. In the Netherlands youth stories (jeugdverhalen) refers to literature for 12- to 16-year-olds (Van Gorp, Ghesquière and Delabastita 1998:227), but in this study the terms youth and youth stories are used for 12- to 18-year-olds.

Controversial issues are debatable topics (which, according to Vos 2018, are also fraught with emotions and conflict), such as disrespect for authority; drug and alcohol use (or abuse); smoking; gender (LGBTI: lesbian, gay, bisexual, transgender and intersex); as well as sexual promiscuity, which can often lead to teenage pregnancies and sexually transmitted infections.

The language teacher2 remains one of the most important role players in the possible establishment of a moral consciousness in youth. The possible mediation of controversial youth stories can leave the Dutch and Afrikaans language teacher in the classroom uncertain, as these controversial texts are sometimes negatively criticised by various role players, including parents, teachers and religious leaders who consider themselves the youth’s morality watchers (Du Plessis 2017; Martinez 2017). The criticism of controversial youth stories is rooted in the anxiety theory (Teverson 2013:61), which implies that certain role models say controversial issues can negatively affect the youthful reader (Vos 2018).

By contrast, adherents of the catharsis theory argue that there should be no shying away from exploring with young readers the prevalence of contentious issues in youth stories (Bohart 1980:192). According to Literary Terms (2020), the theory of catharsis is a literary theory by Aristotle, in terms of which he believed that a good tragedy cleanses and develops the emotions. 

An extensive literature review was launched in an attempt to determine views on the nature of morality in the Netherlands and South Africa, especially with regard to the religious, philosophical, psychological, educational and family perspectives. It is clear from the literature review that youths are involved in the group they belong to; that they question the conventions in their own circle; and that they see matters in a larger context. These facts about young people’s lives come across as themes in youth stories in various ways and therefore the language teacher should show patience and ingenuity during the mediation process to critically examine controversial issues in youth stories with young people.

Furthermore, the concepts youth and literature in Dutch and Afrikaans literature were described by focusing on the nature of youth stories, the moral development of the youth, the reading needs and preferences and reader types, as well as the reading culture and motivation in the Dutch and South African landscapes. Historically, the Netherlands and South Africa differ in terms of moral development, but in both countries there are clearly distinguishable periods in cultural history that have unleashed major changes regarding moral issues.

A historiographical description was compiled of the period from about 1960 until the present of Dutch and Afrikaans youth stories in connection with the cooperation agreement between the Dutch Language Union (Nederlandse Taalunie) and the Afrikaans Language Council (Afrikaanse Taalraad) to exchange knowledge and experience and to collaborate on Dutch and Afrikaans matters, among others in academic curricula (Bennis and Steenkamp 2020). The historiographical description is briefly done by means of a transhistorical approach that identifies generalities within specific periods without presenting a synoptic transhistorical account in broad outline (Vaessens 2013). The purpose of the historiographical narrative is firstly to provide the prospective language teacher with useful and enriching background knowledge on controversial issues in Dutch and Afrikaans youth stories over certain socio-political periods; secondly, to equip them with reading and mediation strategies to teach controversial youth stories; thirdly, to empower learners to read these youth stories in a self-directed manner in their own leisure time; and finally, to propose general guidelines to the prospective and practising language teacher to mediate controversial issues in youth stories in different learning environments.

According to the HAT (2015:811) mediation involves, among other things, mediating reconciliation, while self-directed reading, according to Vos and Van Oort (2018:934), occurs when learners themselves take responsibility for their reading experience. 

Prospective language teachers may find it valuable to know that no literature was specifically written for youth before the 1950s; that youth stories that appeared later were strongly moral in nature and intended to educate; that youth stories were subject to censorship laws that restricted authors’ freedom and that certain themes should be avoided due to the application of anxiety theory in youth stories. Furthermore, it is important for the prospective language teacher to know that youth stories did not really come to fruition until the last decades of the last century, when they were written for the youth, involved socio-political realities, dared to address issues raised by some groupings that were considered controversial, and applied the catharsis theory.

It is strongly recommended to language teachers to improve their literacy teaching skills to mediate youth stories with controversial issues in class. The language teacher, as a mediator, can guide learners in a safe classroom environment, using the suggested guidelines (compare paragraph 5) to develop critical and problem-solving readers, on which self-directed leisure reading may follow. Language teachers worldwide find themselves in different educational contexts that increasingly include multiculturalism and should therefore show a respectful, ethical attitude and democratic responsibility towards learners. The school management team, teachers and parents/guardians should be informed of possible controversial topics that could be discussed in youth stories in the language classroom. In this regard, encourage parents/guardians to have discussions with their children on the controversial topics involved in youth stories. Youth readers should be given the opportunity to gain insight into characters and the consequences of their actions, according to text-based conversations in the classroom. The language teacher should first discuss the text and characters (their conflict, their views, their reactions to moral issues and their consequences). Learners’ own judgment of right and wrong then comes to the fore, as well as their empathy, or lack of it, with a character’s views and actions. Thirdly, learners can provide their own opinions based on this reader-oriented approach. Some learners will be able to read these types of texts without any support, and the teacher should strongly encourage this self-directed reading. However, when struggling readers are equipped with the correct reading skills such as cues, contextual markers and reading strategies, they may be able to read these stories on their own later. The language teacher should remain objective and engage in bold conversations to discover possible solutions to contentious issues. A language class in which learners are allowed to think and reason critically about contentious issues in a secure atmosphere provides a space in which morality can be developed. 

Keywords: Afrikaans youth stories; anxiety theory; catharsis theory; controversy; Dutch youth stories; guidelines; mediation; morality

 

1. Inleiding en kontekstualisering

Moraliteit is ’n moeilik definieerbare begrip as gevolg van diverse aspekte soos die sosiopolitieke, -ekonomiese en -kulturele omstandighede van mense. Wanneer die verskeidenheid van definisies vir moraliteit nagegaan word (DiCicco en Taylor-Greathouse 2014:75–6; HAT 2015; Van Heerden 2016), blyk die volgende ooreenkomste uit die definisies: Moraliteit is, op sy eenvoudigste gestel, ’n individuele en subjektiewe bewussyn van reg of verkeerd. Die taalonderwyser besit ’n individuele moraliteitsbewussyn en moet as medieerder van omstrede kwessies in jeugverhale daarteen te waak om nie as ’n moraliseerder op te tree nie, maar sensitief te wees vir die skoolgemeenskap se moraliteitsbewussyn. 

Omstrede kwessies is betwisbare onderwerpe (wat volgens Vos 2018 ook met emosies en konflik belaai is), soos onder andere disrespek teenoor gesag; dwelm- en drankgebruik (of -misbruik); rook; gender (LGBTI: lesbies, gay, biseksueel, transgender en interseksueel); asook seksuele promiskuïteit, wat dikwels tot tienerswangerskappe en seksueel oordraagbare infeksies kan lei (Cense en Dalmijn 2016:9–11; Vos 2018:291). Wêreldwyd was daar teenstand teen hierdie omstrede kwessies (Fritz en Van der Westhuizen 2010:162–82), maar as gevolg van veranderende beskouinge oor aangeleenthede soos menseregte is daar tans meer verdraagsaamheid teenoor hierdie kwessies (Suid-Afrika 1996:5). 

Hedendaags is die vraag na die aard van morele probleme soveel te meer aanvegbaar binne regeringskringe, howe, skole en die samelewing, veral omdat daar reeds vir ’n geruime tyd ’n toename in gewelddadige kriminele optrede onder die jeug is (Philander 2011). Die jeug se moeitelose, maar ongekontroleerde toegang tot multimedia lei daartoe dat hulle tekste van immorele en omstrede aard kan lees. Die leefwêreld van die hedendaagse jeug verander toenemend ten opsigte van morele kwessies, soos wat dikwels in jeugverhale weerspieël word. Die lees van jeugverhale kan volgens Collins (1996) ’n bydrae lewer tot die vorming van die jeug se oordeel tussen reg en verkeerd.

Hierdie omstrede tekste word soms negatief deur verskillende rolspelers gekritiseer, onder andere ouers, onderwysers en religieuse leiers wat hulself as die moraliteitsbewakers van die jeug beskou (Du Plessis 2017; Martinez 2017). Die kritiek teen omstrede jeugverhale is in die angsteorie gegrond (Teverson 2013:61) wat impliseer dat bepaalde rolmodelle meen omstrede kwessies kan die jeugdige leser negatief beïnvloed (Vos 2018).

Daarteenoor voer die aanhangers van die katarsisteorie aan dat daar nie weggeskram behoort te word daarvan om saam met jong lesers die voorkoms van omstrede kwessies in jeugverhale te ondersoek nie (Bohart 1980:192). Volgens Literary terms (2020) is die katarsisteorie ’n literêre teorie deur Aristoteles, waarvolgens hy geglo het dat ’n goeie tragedie die emosies reinig en ontwikkel.

Wanneer die begrip moraliteit in twee verskillende lande, naamlik Nederland en Suid-Afrika, ondersoek word, is dit van belang om dit vanuit die religieuse, filosofiese, onderwys- en gesinsperspektief te beskou. Aangesien hierdie artikel op die Nederlandse en Afrikaanse jeugverhaalgenre fokus met die doel om kennis en ervaring te deel, word die aard van die Nederlands- en Afrikaanssprekende jeug en hulle onderskeie jeugverhale belig.

Voorts word ’n historiografiese narratief wat die tydperk vanaf ongeveer 1960 tot die hede dek, van die Nederlandse en Afrikaanse jeugverhale saamgestel in aansluiting by die samewerkingsooreenkoms tussen die Nederlandse Taalunie en Afrikaanse Taalraad om kennis en ervaring uit te ruil en saam te werk om Nederlands en Afrikaans, onder andere in akademiese leerplanne, te bevorder (Bennis en Steenkamp 2020). Die doel van die historiografiese narratief is eerstens om aan die voornemende taalonderwyser nuttige en verrykende agtergrondkennis aangaande omstrede kwessies in Nederlandse en Afrikaanse jeugverhale oor bepaalde sosiopolitieke tydperke te bied; tweedens om hulle toe te rus met lees- en mediëringstrategieë om jeugverhale van omstrede aard te onderrig; derdens om leerders te bemagtig om volgens eie keuse hierdie jeugverhale in hulle vrye tyd selfgerig te lees; en laastens om algemene riglyne aan die voornemende en praktiserende taalonderwyser voor te stel om omstrede kwessies in jeugverhale in verskillende leeromgewings te medieer. Mediëring behels volgens die HAT (2015:811) onder andere om versoening te bemiddel, terwyl selfgerigte lees na die mening van Vos en Van Oort (2018:934) plaasvind wanneer leerders self die verantwoordelikheid vir hulle leeservaring neem.

 

2. Probleemstelling

Aangesien morele kwessies toenemend in die leefwêreld van die jeugdige op die voorgrond tree via multimedia, asook in hedendaagse jeugverhale, raak dit vir die taalonderwyser des te meer ’n uitdaging om jeugboeke van omstrede aard in die klaskamer te medieer. Die probleemvrae wat uit hierdie stelling voortvloei, is:

  • Tot watter mate behoort die taalonderwyser bewus te wees van die verskillende moraliteitsperspektiewe in die hedendaagse samelewing?
  • Oor watter kennis ten opsigte van jeugdige lesers se ontwikkeling en leesbehoeftes en -voorkeure behoort die taalonderwyser te beskik? 
  • Tot watter mate moet die voornemende taalonderwyser kennis dra van die historiografiese narratief van die Nederlandse en Afrikaanse jeugverhale in die klaskamer?
  • Watter moontlike riglyne kan vir die voornemende en praktiserende taalonderwyser voorgestel word om morele kwessies in jeugverhale op ’n gepaste wyse te medieer ten einde selfgerigte lesers te ontwikkel?

 

3. Navorsingsmetodologie

’n Uitgebreide literatuurondersoek is geloods in ’n poging om beskouinge oor die aard van moraliteit in Nederland en Suid-Afrika onderskeidelik te bepaal, veral ten opsigte van die religieuse, filosofiese, psigologiese, onderwys- en gesinsperspektief. Voorts word die begrippe jeug en literatuur in Nederlandse en Afrikaanse literatuur beskryf deur te fokus op die aard van jeugverhale, die morele ontwikkeling van die jeug, die leesbehoeftes en -voorkeure en lesertipes, asook die leeskultuur en -motivering in die Nederlandse en Suid-Afrikaanse landskappe. Die samehang van die Nederlandse en Afrikaanse jeugverhale vanaf 1960 tot die hede sal deur middel van ’n historiografiese narratief aangebied word en behoort ’n goeie oorsig aan die leser te bied oor die ontwikkeling van die jeugverhaal as genre in die onderskeie tale. Volgens Van der Westhuizen (2016:377) is ’n historiografiese narratief ’n gepaste benaderingswyse, aangesien so ’n benadering onder andere sosiopolitieke gebeure, bepaalde tyd, verskillende skrywers en tekste betrek. Hierdie literatuurstudie en historiografiese narratief is nuttig en verrykend om die voorkoms van moraliteit en omstrede kwessies in Nederlandse en Afrikaanse jeugverhale deur ’n aantal dekades na te gaan. Hiermee word beoog om voornemende taalonderwysers bewus te maak van hoe Nederlandse en Afrikaanse jeugverhale ontwikkel het van konvensionele, moralistiese verhale tot verhale wat (moontlik vir sekere groeperings) omstrede kwessies bevat. In die verlede is die angsteorie toegepas op jeugverhale van omstrede aard, maar hedendaags behoort die taalonderwyser die katarsisteorie en lees- en mediëringstrategieë aan te wend om omstrede kwessies in verhale te medieer ten einde leerders tot selfgerigte lesers te ontwikkel.

 

4. Literatuurstudie

4.1 Die algemene aard van jeugdiges

Die liggaamlike ontwikkeling wat by ’n 12- tot 18-jarige plaasvind, is ’n omvangryke verandering vir die individu en het ’n uiters belangrike invloed op die jeugdige se gedrag en denke en gaan gewoonlik gepaard met verwondering, trots, vreugde, maar ook onsekerheid, skaamte en weersin (Louw en Louw 2014). Primêre en sekondêre geslagsontwikkeling is opvallend en geskied by meisies vinniger as by seuns. Seuns wat vroeër geslagsrypheid bereik, presteer goed in sport en word makliker in leierskapposisies aangestel. Alhoewel hierdie seuns ’n positiewe selfbeeld het, sukkel hulle met al die toegewysde verantwoordelikhede. Seuns wat later geslagsrypheid bereik, word as minder aantreklik en meer gespanne en angstig beskou; dit het dikwels minderwaardigheidsgevoelens tot gevolg (Wigfield, Eccles en Pintrich 1996:149–50; Louw en Louw 2014;). Die voordele wat vroeë geslagsrypheid vir meisies inhou, is volgens Louw en Louw (2014) selfvertroue en aanpasbaarheid. Daarteenoor voer Wigfield e.a. (1996:150) aan dat hierdie vroeë geslagsrypheid veroorsaak dat meisies hulself as minderwaardig ag, moeilik vanaf die laerskool na die hoërskool aanpas en maklik geïsoleerd voel.

Jeugdiges, in die middelbare skool (Nederland) en Senior en VOO-fases (Suid-Afrika), kan eerstens meer inligting stoor en probleme makliker oplos as in vorige fases (Louw en Louw 2014). Tweedens is jeugdiges in hierdie bostaande fases in staat tot abstrakte en logiese denke en volgens Van der Westhuizen (1989:20) kan hulle oor beginsels begin redeneer. Louw en Louw (2014) stem met laasgenoemde skrywer saam in die opsig dat jeugdiges begin nadink oor religieuse begrippe, hedendaagse en omstrede kwessies en hulle eie sosiale, politieke en persoonlike waardes.

Moraliteit impliseer die individu se vermoë om tussen reg en verkeerd te onderskei en daarvolgens op te tree. Aangesien hierdie artikel riglyne vir die mediëring van omstrede Nederlandse en Afrikaanse jeugverhale wil bied, is dit nodig om eerstens jeugdiges se morele identiteit as deel van hulle persoonlike identiteit te beskou. 

Tweedens moet besef word dat jeugdiges se afhanklikheid van hulle ouers afneem, terwyl hulle behoefte om aan ’n portuurgroep te behoort toenemend belangriker word. Hulle selfbeeld hang grootliks af van die mening van die portuurgroep, en vanweë hulle toenemende seksuele en intellektuele ontwikkeling raak hulle soveel te meer bewus van hulle eie selfbeeld. Aanvaarding en vertroue is vir jeugdiges daarom belangrik.

Derdens behoort alle jeugdiges steeds te leer om hulle gewete op algemeen etiese beginsels te grondves. Volgens Kohlberg (1958) vind hierdie etiese ontwikkeling op verskillende vlakke plaas en is dit op alle mense (dus ook op jeugdiges) van toepassing en dit vind volgens ’n vaste volgorde plaas. Die etiese ontwikkeling behels heteronome, individualisties instrumentele, interpersoonlik normatiewe, asook sosiale moraliteit. Die etiese ontwikkeling van die jeugdige is gebaseer op menseregte en maatskaplike welsyn en jeugdiges funksioneer hoofsaaklik binne die konvensionele vlak (Boom en Olthof 1994:45; Kroon 2014:210).

In die vierde plek moet die jeugdige se vrees om van die portuurgroep uitgesonder te word en om voor ander beledig te word, in ag geneem word. Van der Schyff (1998:49–50) verduidelik dat die volgende emosionele behoeftes kenmerkend van jeugdiges is: Hulle het ’n behoefte aan stabiliteit in die gesin; hulle verlang leiding van ’n volwassene, maar wil ook onafhanklik optree; en jeugdiges wil die versekering van liefde hê ten spyte van hulle tekorte.

Vyfdens kom jeugdiges in opstand teen volwassenes, maar steun sterk op die portuurgroep (Van der Westhuizen 1989:21). Hulle eiewaarde is gekoppel aan die waarde wat ander aan hulle heg en daarom is dit vir hulle belangrik om volgens die portuurgroep aan te pas ten opsigte van haarmodes, klere en musiek (Richards 1978:76–7).

Bogenoemde dui daarop dat jeugdiges betrokke is by die groep waartoe hulle behoort; dat hulle die konvensies in hulle eie kring bevraagteken; en dat hulle sake in ’n groter konteks sien. Hierdie feite omtrent jeugdiges se werklikheid kom op verskillende wyses algemeen as temas in jeugverhale na vore en daarom behoort die taalonderwyser tydens die mediëringsproses geduld en vindingrykheid aan die dag te lê om omstrede kwessies in jeugverhale met jeugdiges krities te ondersoek.

4.2 Die aard van moraliteit in Nederland en Suid-Afrika 

Sedert die instelling van formele skoolkurrikula word die volgende vraag volgens Collins (1996:157) gereeld geopper: Word moraliteit by die huis, skool of kerk gekweek? Bourke (1968) was van mening dat moraliteit vervleg is met die geskiedenis van etiek wat veelvlakkig van aard is: Dit kan ’n intellektuele handeling, maar ook ’n intuïtiewe en natuurlike handeling wees (met ander woorde die moraliteitsbewussyn is deel van elke unieke persoonlikheid).

’n Algemeen aanvaarde feit in die sosiale wetenskappe is dat moraliteit as ’n gelaagde konsep beskou word. Dit bestaan uit verskillende vlakke wat mekaar aanvul. Twee vorme van moraliteit kan onderskei word: ’n heteronome, sosiale moraliteit wat weerspieël word in reëls en konvensies wat binne ’n bepaalde gemeenskap bestaan, en ’n outonome, individuele moraliteit. Die tweede vlak is meer abstrak van aard; dit handel oor ’n persoonlike, aktiewe oorweging van waardes en norme. Volgens Spiecker (1984) hou die twee vlakke ten opsigte van vorm en inhoud verband met mekaar. In die onderwys leer kinders eers die reëls. Later kan hulle as jeugdiges selfstandig en krities daaroor nadink en hulle eie keuses uitoefen (Spiecker 1984; Schram en Hakemulder 1994; Hakemulder 2000; Van Haaften 2004:57).

Moraliteit is daarom geen statiese gegewe nie en morele gedrag is aan veranderinge onderhewig. Dit geld nie alleenlik vir jeugdiges, soos in die artikel beskryf word nie, maar ook vir alle samelewingsgroeperinge. Wanneer drastiese veranderinge in ’n samelewing plaasvind, vind dit ook neerslag in morele optrede (Van Zyl 2010). Drastiese veranderinge het in albei lande plaasgevind. In Nederland het die veranderinge in die sestiger- en sewentigerjare gebeur, terwyl dit in Suid-Afrika veral eers in die negentigerjare plaasgevind het. Hierdie samelewingsveranderinge vind dan neerslag in morele gesprekvoering.

Vanuit ’n buitelandse perspektief word Nederland vir eeue as ’n vredeliewende, verdraagsame, morele nasie en ’n voortreflike land beskou (Bakker, Noordman en Rietveld-van Wingerden 2010:275). In die naoorlogse jare verander Nederland egter na ’n permissiewe samelewing – wat lank nie meer as “permissief” beskou word nie – soos ’n oormaat van vryheid, byvoorbeeld die dekriminalisering van dwelmgebruik; aanvaarding van homoseksuele persone; die gebruik van voorbehoedmiddels; werkende getroude vroue; asook vermaaklikheidsprogramme op die radio in plaas van die onderwys- en opleidingsprogramme. Hierdie ontwikkeling het verskeie Nederlanders ontnugter en morele paniek veroorsaak (Van Noort en Wiche 2006:8; Bakker e.a. 2010:282). In die tagtigerjare met die beklemtoning van individuele vryheid was Nederland ’n toonaangewende en ruimdenkende land ten opsigte van die Wet op Beëindiging van Swangerskappe, genadedood en selfdoodbystand (Dodge, Sandfort, Yarber en De Wit 2005). Hedendaags is gender, wat nie meer op die biologiese geslag van die individu berus nie, ’n dominante kwessie waarmee jeugdiges in die massamedia gekonfronteer word. Diversiteit en individualisering is sleutelkonsepte in die hedendaagse Nederlandse samelewing wat uit die revolusionêre sestigerjare spruit.

In Suid-Afrika vind ingrypende ontwikkeling sedert 1990 plaas. Boshoff (2011:24, 34) verduidelik dat Suid-Afrika in die jare sedert 1990 op vele terreine (onder andere staatkundig, polities, sosiaal, demografies, ekonomies, kerklik, onderwyskundig, landboukundig, kultureel, vermaak en sport) groot veranderinge ondergaan het. Van Zyl (2010) verduidelik dat drastiese veranderinge teenstrydige optredes en verskillende perspektiewe oor moraliteit veroorsaak en dat juis hierdie heterogene aard van die bevolking van Suid-Afrika morele eenstemmigheid bemoeilik. 

Die hoë misdaadsyfer is ’n bewys dat Suid-Afrika ’n moraliteitskrisis beleef. Hierdie misdaad sluit onder andere moord, motorkapings, verkragting, huisbraak, gewapende roof, plaasmoorde, bedrog en gesinsgeweld in (De Villiers 1999:15–38). Netwerk24 (2017) en Pretorius (2017) rapporteer die skokkende misdaadstatistiek wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) vir die tydperk 1 April tot 31 Desember 2016 bekend gemaak is. Hierdie statistiek dui daarop dat 14 333 moorde en 30 069 verkragtings vir hierdie tydperk aangemeld is. Bendegeweld onder jeugdiges was veral in die Oos- en Wes-Kaap prominent. Bandeloosheid en vergrype word volgens Rauch (2005:9) as aanvaarbaar beskou, veral omdat hierdie wandade heel dikwels deur vooraanstaandes en hooggeplaastes gepleeg word. Tydens hierdie bandelose optredes en gedrag ly huwelike skade, gesinsverbrokkeling is meer algemeen en die gevolg is ’n ontwrigte samelewing sonder duidelike morele gedragskodes. 

Histories beskou, verskil Nederland en Suid-Afrika ten opsigte van morele ontwikkeling, maar in albei lande is daar duidelik onderskeibare tydperke in die kultuurgeskiedenis merkbaar wat groot veranderinge ten opsigte van morele kwessies ontketen het.

4.2.1 Politieke perspektief

Die Nederlandse sowel as Suid-Afrikaanse multikulturele samelewings streef na verdraagsaamheid en die politieke bestel van elke land ondersteun die regte van álle burgers deur hul onderskeie grondwette (Suid-Afrika 1996; Nederland 2018). 

Tans is die vraag of immigrante onbeperk in Nederland toegelaat behoort te word. Benewens ekonomiese immigrante, stroom vlugtelinge na Nederland sedert die oorlog in Sirië en die onrus in die Midde-Ooste en in dele van Afrika. Dit veroorsaak volgens Scheffer (2000) politieke spanning, want sommige politieke partye, soos die Partij voor de Vrijheid (PVV), bepleit byvoorbeeld ’n beleid wat vreemdelingehaat kan bevorder, terwyl ander politieke partye ’n meer sosiale en verdraagsame vlugtelingbeleid voorstaan. Wêreldwye gewelddadige optrede, veral deur ekstremistiese Moslemgroepe, het in Nederland ’n negatiewe invloed op die vlugtelingdebat. Daar is tans nog nie sprake van voldoende integrasie van minderhede en ’n geslaagde multikulturele Nederlandse samelewing nie. Indien vlugtelinge in groot getalle toegelaat word om die land binne te kom, maar met beperkte integrasie, kan dit tot multikulturele konflik lei.

In Suid-Afrika kom ’n instroming van immigrante vanuit ander Afrika-lande voor wat tot vreemdelingehaat aanleiding gee. Voorts beskik Suid-Afrika oor ’n groter verskeidenheid etniese groepe as Nederland. Boshoff (2011:34–7) verduidelik dat Suid-Afrikaners streef na oudpresident Nelson Mandela se reënboognasie waar eenheid in verskeidenheid gerespekteer word. Die regerende party, die African National Congress (ANC), se uitsluitlike doel was om afstand te doen van ’n Eurosentriese identiteit en het twee amptelike landstale, Afrikaans en Engels, na 11 tale vermeerder (Boshoff 2011:34–5). Hierdie doel van die ANC het tot gevolg dat innerlike waardes en die moraliteit van minderheidsgroepe onder groot druk verkeer.

Vreedsame naasbestaan bly egter albei lande se politieke ideaal.

4.2.2 Religieuse perspektief

Religie speel ’n rol in die geskiedenis van Nederland en Suid-Afrika, aangesien die Suid-Afrikaanse Protestantse oortuigings onder andere uit Nederland spruit, maar ook in Suid-Afrika tot stand gekom het deur die werk van die Morawiese Broederskap, die Rynse, die Berlynse Sendinggemeenskappe en Engelse Sendinggenootskappe (Giliomee en Mbenga 2007:95). 

Afgesien van die jare lange stryd in Nederland tussen Protestantisme en Room-Katolisisme voordat Nederland ’n verenigde demokrasie geword het, was Nederland onder andere ’n gereformeerde nasie en is gereformeerde beginsels in die kerk en skole toegepas (Stilma 2011:48–9). Na die Tweede Wêreldoorlog het die algemene Christelike moraliteit in Nederland afgeneem. In 2015 het meer as 50% van die bevolking nie meer aan ’n denominasie behoort nie (Schmeets 2016:5). Protestantse sowel as Rooms-Katolieke kerke het in hierdie tydperk hulle invloed op die samelewing verloor en Christelike etiek het verminder en sodoende plek vir ’n selfstandige individuele beskouing van moraliteit gemaak (Bakker e.a. 2010:275–82). ’n Nederlandse Christelike minderheid hou steeds vas aan Bybelse waardes.

Ook in Suid-Afrika het sekulêre waardes stelselmatig ontwikkel. Aangesien 85,6% Suid-Afrikaners volgens e.CKE (2013) aangetoon het dat hulle Christene is, is dit logies dat Christelike oortuigings ’n rol (kan) speel in die omgaan met omstrede kwessies.

Die Moslemgemeenskap in Nederland word groter; met die eeuwisseling was daar 0,8 miljoen Moslems (Van Eijnatten en Van Lieburg 2005:348), maar teen 2015 maak hulle ongeveer 5% van die bevolking van 17 miljoen uit. Islam het in die afgelope 50 jaar ’n plek in die Nederlandse samelewing begin inneem, maar integrasie is nie vanselfsprekend nie (Pondts, Van Ham en Marlet 2015). 

In Nederland is moraliteit soos vervat in Hindoeïsme (0,6%) en Boeddhisme (0,4%) selde die onderwerp van bespreking. In Suid-Afrika is daar meer Hindoes (1,2% van die Suid-Afrikaanse bevolking) wat die leer van karma (alles is interafhanklik) en dharma (die harmonieuse funksionering van alles) aanhang (Krüger 2017:133). In Suid-Afrika word Afro-Christelike religieë volgens Van Zyl (2010) erken waar die opperwese ook as skepper beskou word en die afgestorwe voorouers ’n belangrike rol speel. Voorts word gedrag deur vrees vir vergelding bepaal, terwyl norme en waardes gerelativeer word.

Henrard (2001:52–72) is van mening dat die 21ste eeu ’n groter openheid tussen die verskillende religieë in Suid-Afrika meegebring het. As gevolg van hierdie sekularisme het die tradisionele rol wat die kerk ten opsigte van morele waardes speel, volgens Van Zyl (2010) ook verander. Hy verduidelik dat verskeie geloofsgroeperinge, elk met sy eie perspektief op etiese kwessies, in Suid-Afrika bestaan. Tussen hierdie verskillende geloofsgroeperinge is daar ooreenkomste wat opbouend vir die samelewing is: Hulle stem grootliks ooreen ten opsigte van menswaardigheid, maar die vrou beklee byvoorbeeld steeds nie oral ’n gelyke posisie naas die man nie. Die verskille lei tot verdeling. Die positiewe waardes van elke religie behoort ontgin te word tot voordeel van ’n beter samelewing. Hierdie proses sal met minder veroordeling en met groter erkentlikheid teenoor almal moet geskied.

Samevattend kan gesê word dat religie in Suid-Afrika ’n groter rol speel en meer uiteenlopend is as in Nederland. Ter wille van ’n vreedsame samelewing in Nederland is daar min gesprekvoering rondom die onderskeie geloofsoortuigings. 

4.2.3 Filosofiese perspektief

In die inleiding en kontekstualisering van hierdie artikel is beskryf dat moraliteit, gebaseer op verskillende definisies, deesdae beskou kan word as ’n individuele en subjektiewe bewustheid van wat reg of verkeerd is.

In Nederland is orde, geregtigheid, beskerming van die lewe, persoonlike vryheid, solidariteit, demokrasie en menseregte sleutelbegrippe ten opsigte van moraliteit. Eeue lank is dit aan die Christelike verhaal gekoppel en was daar eenstemmigheid oor die etiese lewe (De Kruijff 1996:43, 48). Tans vereis kwessies soos “voltooide lewe” en vryheid van uitdrukking, wat ruimte vir belediging bied, ’n fundamentele debat oor wat “etiese lewe” is (Wisse, Boer, Vos, De Jong en Schaafsma 2018). Seksuele kwessies het etiese, en dikwels wetlike vrae laat ontstaan (Moral Compass Project 2018), maar ’n debat wat oor omstrede kwessies tot ’n gesamentlike morele kompas kan lei, is volgens Westerman-Dannenberg (2018) ’n illusie.

In Suid-Afrika verander die samelewing ook en blyk dit dat moraliteit weer ’n besprekingspunt is, maar in Nederland blyk die teendeel. Volgens Du Plessis en Marais (2017:614–26) plaas die misdrywe van hooggeplaastes in regeringskringe, geregshowe, asook die toenemende geweld onder jeugdiges, weer die soeklig op die aard van moraliteit in Suid-Afrika. Volgens hierdie skrywers kan ’n samelewing uit die moraliteitsfilosofie van Mahatma Gandhi leer. Die moraliteitsfilosofie van Gandhi (Kripalani 1958) behels ’n strewe na geestelike reinheid en dit is ’n voorwaarde vir verantwoordbare selfverwesenliking. Volgens Gandhi moet opvoeding op vreedsame naasbestaan, goeie konflikhantering en die bevordering van nasiebou gerig wees. Vir ’n vreedsame naasbestaan moet op naasteliefde gefokus word en behoort ’n individu se lewe te getuig van onselfsugtigheid en die verkondiging van geweldloosheid (vermyding van fisieke én emosionele geweld). Ten einde konflik te verwerk, behoort onderhandelings- en konflikhanteringsvaardighede deel te vorm van alle vlakke van die kurrikula van leerders. Gandhi was ’n vegter vir die bemagtiging van individue en kultuurgroepe om hulle volle potensiaal te bereik, en ter wille van die bevordering van nasiebou is dit belangrik dat daar ’n eenheidsgesindheid op voetsoolvlak en erkenning van gemeenskaplikheid op mikrovlak moet bestaan.

Dit is duidelik dat daar in albei lande na oplossings gesoek word om beter morele waardes te herstel. Waar in Nederland ’n diskoers oor individuele vryheid en selfbeskikking gevoer word, handel die diskoers in Suid-Afrika veral oor misdrywe en konflik. 

4.2.4 Onderwysperspektief 

In Nederland bestaan onderwysvryheid sedert 1917 en wel volgens die beginsels van artikel 23 van die Grondwet. Hierdie artikel bepaal dat openbare onderwys in elke munisipale gebied deur die regering verskaf word en dat mense geregtig is om self skole te stig, mits dit teen dieselfde kostes geskied en aan dieselfde standaarde as openbare skole voldoen (Zoontjens 2003). As gevolg van hierdie onderwysvryheid is daar skole met verskillende geloofsbelange: Christelike, Islamitiese, Joodse, Hindoe- en antroposofiese vryeskole. Volgens Spiecker (1984) bestaan ’n heteronome moraliteit binne die skole. Gevolglik is daar dikwels in die Nederlandse skole min bevraagtekening oor morele kwessies, maar daar is ook evangeliese en Christelik-ortodokse skole wat Bybelse riglyne volg. Volgens Van Koeven (2011:69) impliseer dit dat laasgenoemde skole jeugverhale wat strydig is met Bybelse standpunte (soos toorkuns, okkultisme, sprokies en grilverhale), afkeur. Literatuur wat in hierdie skole gelees word, word hoofsaaklik deur Christelike skrywers geskryf. Taalonderwysers in hierdie skole verkies derhalwe verhale sonder omstrede kwessies (Lolkema en Prins 2005:107–8). 

Onderwysers wat multikulturele en -religieuse groepe onderrig, ervaar dikwels onsekerheid wanneer hulle omstrede kwessies, soos die Nederlandse vlugtelingbeleid, homoseksualiteit, (religieuse) fundamentalisme, radikalisering, diskriminasie en rassisme met jeugdiges tydens onderrig moet ondersoek. Uit Sijbers e.a. (2015:13) se ondersoek blyk dit voorts dat leerders en/of ouers ook die volgende temas as omstrede kwessies beskou: die holocaust, seksuele diversiteit, regse ekstremisme, antisemitisme, anti-Moslemisme, vryheid van spraak en integrasie. Hierdie taalonderwysers skram weg van genoemde onderwerpe, aangesien hulle die angsteorie toepas omdat hierdie onderwerpe angs en woede ontlok.

Dit is vir onderwysers moeilik om alle beskouinge te dek sonder dat iemand uitgesluit of onveilig voel (Sijbers e.a. 2015; De Jong en Nelis 2018). In reaksie op hierdie onsekerheid, kies baie onderwysers wêreldwyd jeugverhale wat eerder nie omstrede kwessies bevat nie en Paul (2017) betreur die feit dat onderwysers boekelyste met onbestrede onderwerpe aanvra. Onderrigvaardighede behoort in die ontsluiting van hierdie tekste te verbeter. Die rol van onderwysers as medieerders is belangrik en hulle moet bewus wees van hulle onderrig- en opvoedkundige doelwitte (Kamp, De Jong-Slagman en Van Duijvenboden 2019).

Sedert enkele jare gelede word onderwysvryheid in Nederland gereeld gedebatteer. Die meerderheid Nederlanders is van mening dat onderwys in Nederland neutraal en onafhanklik van ’n bepaalde geloof of godsdiens moet wees. Kester (2019) voer aan dat die huidige konsep verouderd is en dat die Nederlandse regering nie meer vir godsdiensonderrig hoef te betaal nie. ’n Afleiding kan gemaak word dat die huidige onderwysvryheid nie meer tred hou met ’n multikulturele samelewing wat na inklusiwiteit streef nie.

Waar Nederland na inklusiwiteit streef, beoog Suid-Afrika een volkome homogene samelewing. Sedert 1990 het groot ontwikkeling op onderwysgebied plaasgevind. Boshoff (2011:38) verduidelik dat die meerderheid Suid-Afrikaanse skole voor 1990 nog leerders van net een ras toegelaat het, maar dat die situasie tans totaal anders daar uitsien: Voormalige dubbelmediumskole se taal van leer en onderrig is slegs Engels, en voormalige wit Afrikaanse skole beskik vandag oor ’n swart Engelse leerderstroom. Die magte van beheerliggame is deur onderwysdepartemente ingekort. Ten spyte van die verpolitisering van onderwys wat dikwels in ’n land soos Suid-Afrika voorkom, kan die afleiding gemaak word dat die diverse landsburgers na gemeenskaplike morele waardes behoort te streef om ’n beter samelewing vir almal daar te stel.

Opvoeding is volgens Van Heerden (2016) ’n morele aktiwiteit, omdat waardes, met ander woorde opvattings van wat reg en wat verkeerd is, binne die skool- en klaskameromgewing aangespreek kan word ter bevordering van ’n beter samelewing. Die Suid-Afrikaanse Grondwet (Suid-Afrika 1996) beklemtoon voorts die waardes, regte en beginsels waarna die Suid-Afrikaanse samelewing streef. Volgens Kruger (2013) in Du Plessis en Marais (2017) slaag ons nog nie daarin nie, want hierdie strewe na die erkenning van menswaardigheid, gelykheid, die bevordering van fundamentele regte en vryhede, asook nierassigheid en nieseksisme is nog nie ten volle verwesenlik nie.

In die klaskamer word onderwysers met verskillende leerders uit ’n verskeidenheid van agtergronde gekonfronteer, net soos in Nederlandse klasse met ’n multikulturele agtergrond. Waar dit in Nederland soms ’n verleentheid is om kulturele verskille te bespreek, voer Suid-Afrikaners juis hierdie gesprek. Volgens Meier en Marais (2012:127–8) sluit kulturele verskeidenheid verskillende kulture, religieuse, rasse-, taal- en etniese groepe met verskillende gebruike, waardes en oortuigings in. Die skool- en klaskameromgewing is die plek waar onderwysers en leerders veeltalig en multikultureel met mekaar kommunikeer. Mbudeshale (2014:7) is van mening dat multikulturele onderwys en die soeke na universele waarhede, waardes en gewoontes die oplossing vir hierdie diversiteitsdilemma kan wees. Die Grondwet van Suid-Afrika verskans verder in hierdie opsig die regte van alle persone en bevestig die demokratiese waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid. 

Du Plessis en Marais (2017:614–26) bevestig dat die opvoeding van ’n leerder op selfverwesenliking fokus en dat dit nie van waardes soos respek, deernis met ander, vergewensgesindheid en ’n soeke na vreedsame naasbestaan losgemaak kan word nie. Volgens hierdie navorsers behoort die betrokke rolspelers in die skool- en klaskameromgewing hierdie waardes, wat ook in die Grondwet van Suid-Afrika gestel is, aan leerders oor te dra.

Uit bostaande bespreking kan die afleiding gemaak word dat die taalonderwyser ’n bydrae kan lewer ten opsigte van die moraliteitsontwikkeling van jeugdiges.

4.2.5 Gesinsperspektief

Die meeste geloofsrigtings wêreldwyd onderskryf die kernfunksie wat die gesin binne die geloof, maar ook binne die groter samelewing, speel. ’n Voormalige president van die VSA, Lyndon B. Johnson, het tereg in 1965 in ’n toespraak by die Howard Universiteit die volgende oor die gesin gesê: 

The family is the cornerstone of our society. More than any other force it shapes the attitude, the hopes, the ambitions, and the values of the child. And when the family collapses, it is the children that are usually damaged. When it happens on a massive scale the community itself is crippled. 

Die gesin is die verband waarbinne kinders grootword en waar waardes en norme oorgedra word. In Nederland, sowel as in Suid-Afrika, het die kerngesin vir lank uit ’n vader, moeder en een of meer kinders bestaan, maar in albei lande het die gesinsamestelling veranderinge ondergaan wat onder andere die lewensuitkyk van die jeugdige verander. 

Voor die sestigerjare het byna alle kinders in Nederland in ’n kerngesin grootgeword. Rondom die 1970’s het die vanselfsprekende gesag van ouers en die gehoorsaamheid van kinders binne gesinne verdwyn. Geleidelik het die opvoeding verander en het die verhouding tussen ouers en kinders meer demokraties geword (Bakker e.a. 2010) wat ’n invloed op jeugdiges se verhouding met hulle ouers uitoefen. 

Nie net die gesagsverhouding in Nederland het verander nie. Baie ouers was nie meer bereid om hulle ambisie prys te gee ter wille van betaamlikheid, die familie en die gesin nie. Met toenemende welvaart, sekularisasie en wetenskaplike vooruitgang het gesinne verklein (Wijsbroek, Van der Poel en Van Goor 2019). Hierdie ontwikkeling het verreikende gevolge gehad, soos ’n toenemende aantal egskeidings (40% in 2016), maar ook die keuse van andere vorme as die tradisionele kerngesin waarin talle jeugdiges hulle bevind.

In Nederland is die tradisionele kerngesin en ’n moderne alternatief, met twee of meer persone van dieselfde of verskillende geslagte, wettig (Wolfsen, De Beaufort, Braat, Eusman, Hermanns, Ibili en Liefaard 2016). Of kinders grootword in die tradisionele kerngesin of in ’n alternatiewe gesinslewe, die meeste Nederlandse kinders word grootgemaak met die klem op individuele welstand, die ontwikkeling van hulle eie potensiaal, individuele outonomie, selfbeskikking en vryheid. Dieleman (2019:1–27) verduidelik dat elke individu, die jeugdige hierby ingesluit, self verantwoordelik is vir sy eie lewe en sukses en dat die gesin as ’n tradisionele verband vir jeugdiges nie meer so belangrik is nie.

In Suid-Afrika het die tradisionele kerngesin na ’n moderne kerngesin begin verander, waar die vader nie meer die enigste broodwinner is nie, maar waar die moeder ook tot die beroepslewe begin toetree het om die gesinsinkomste aan te vul. Daar is, soos die neiging ook wêreldwyd toeneem, Suid-Afrikaanse vaders wat in die buiteland werk. Voorts het die moderne kerngesin as gevolg van egskeiding getransformeer na enkelouergesinne en saamwoonneigings soos sogenaamde proefhuwelike en uiteindelike hersaamgestelde gesinne, net soos in Nederland. Sosiaal gesproke het die kerngesin kwesbaar geword en is gesinslede nie altyd meer beskikbaar vir mekaar nie. Hierdie neiging het aanleiding gegee tot veranderende morele waardes binne die gesinskring waarmee jeugdiges bekend is (Steyn, Van Wyk en Le Roux 1987:45, 57–8, 101–2; Kruger 2001:65).

Die verandering binne die kerngesin het voorts tot gevolg gehad dat die struktuur van die samelewing drasties verander het. Die ouers was van mening dat die skool en die kerk die verantwoordelikheid vir die kind se opvoeding geword het (Kruger 2001:65). Volgens Kruger (2001:66–9) begin die Suid-Afrikaanse kerngesin verbrokkel. Jeugdiges vind hulle ontvlugting en ontspanning in sport, vriendskapsverhoudings, gesondheids- en oefengimnasiums, klubs en teaters. Materiële waardes oorskadu persoonlike en gesinsgeluk en menslike vryheid word oorbeklemtoon. Seksualiteit word openlik deur onder andere die massamedia bespreek en gepropageer.

Uit bogenoemde veranderende samelewingsneigings, wat veral opmerklik binne die gesinstruktuur is, kan die afleiding gemaak word dat jeugdiges moontlik in die moderne samelewing kan ontspoor en wil dit voorkom asof die gesin in albei lande nie meer effektief as ’n hoeksteen van die samelewing funksioneer nie.

4.3 Jeug en literatuur in Nederland en Suid-Afrika

4.3.1 Inleiding

In Nederland is die jeug gedurende die 18de eeu uiteindelik as deel van die samelewing erken. Die opkoms van die middelklas het daartoe gelei dat kinderarbeid verbied is en verpligte onderwys ingestel is (Dasberg 1975:11–35). Op 12-jarige ouderdom eindig basisonderwys in Nederland en jeugdiges kan daarna uit ’n verskeidenheid rigtings kies: Voorbereidend Middelbaar Beroepsonderwijs- (VMBO-) leerders word prakties opgelei, terwyl Hoger Algemeen Voortgezet Onderwijs- (HAVO-) leerders en Voorbereidend Wetenschappelijk Onderwijs- (VWO-) leerders ook kultureel gevorm word. 

In Suid-Afrika bevind 12-jariges hulle in die laaste jaar van die Intermediêre fase (graad 6); graad 7- tot 9-leerders is in die Senior fase en graad 10- tot 12-leerders in die Verdere Onderwys- en Opleidingsfase (VOO-fase). Graad 6- tot 12-leerders (12 tot 18 jaar oud) word daarom in Suid-Afrika as jeugdiges beskou.

Hierdie verskillende skoolrigtings en -fases in albei lande het ook ’n invloed op die leeskultuur van die leerders. Jeugdiges wil onafhanklik wees, wil eksperimenteer en vry voel om sosiale vaardighede te beoefen. Hulle streef na hulle eie identiteit, leer om beredeneerde keuses te maak, en toon die vermoë tot abstrakte denke en logiese beredenering oor realistiese en hipotetiese kwessies. Hedendaagse jeugdiges is bevry as gevolg van moderne media (Ghesquière 2009:11; Louw en Louw 2014). 

4.3.2 Aard van jeugverhale vir 12- tot 18-jariges 

Die genre jeugverhale is nie duidelik definieerbaar nie, maar dit is ’n term wat in die laat 1960’s gebruik is om te verwys na literêre tekste wat uitsluitlik vir jong lesers tussen die ouderdomme van ongeveer 12 en 18 jaar oud geskryf is of wat deur volwassenes as geskik vir jeugdiges beskou word. In Nederland verwys jeugdverhalen na literatuur vir 12- tot 16-jariges (Van Gorp, Ghesquière en Delabastita 1998:227), maar in hierdie ondersoek word die begrippe jeug en jeugverhale vir 12- tot 18-jariges gebruik. Stephens (2007:34–42) verduidelik dat die meeste jeugverhale internasionaal verwys na verhale wat omstrede kwessies in die jeugdige se identiteitsoektog betrek. 

Talle klassieke jeugverhale dateer uit daardie tyd en narratiewe verhalende prosa met ’n filosofiese kleur het oorheers. Binne die religieuse raamwerk was jeugverhale hoofsaaklik op persoonlike belydenis gefokus (Grimmith 1973:18). Vernuwing in jeugverhale het nie geleidelik plaasgevind nie. Die genre het ontstaan na afloop van die Tweede Wêreldoorlog. Die skielike heroriëntasie van die sestigerjare was plotseling en intens. Vir jeugdiges was daar ’n soeke na identiteit en hulle het veral na die sestigerjare verhale oor revolusie, gesagskrisis en rolomkering begin lees (Schmidt 1954; Diekmann 1971; Kuijer 1977). Volgens Vloeberghs (2006) het heelwat verhale nie literêre onderbou gehad nie, maar vir die jeugdige leser was dit nie van belang nie.

In die tagtigerjare kom die identiteitskwessie in verhale met ’n sterk literêre onderbou wel na vore en prikkel ook die belangstelling van volwasse lesers. Nederlandse skrywers soos Joke van Leeuwen, Toon Tellegen en Ted van Lieshout debuteer in die 1980’s en hulle werke toon literêre gehalte in sowel jeug- as volwasseneliteratuur. Die sosiale werklikheid word vir lank nie in die verhale weerspieël nie (Ghesquière, Joosen en Van Lierop-Debrauwer 2014:52), maar kom na die millenniumwisseling na vore. Joosen en Vloeberghs (2008) beskou opvoeding en sosialisering in die Nederlandse postmoderne tyd as problematies. Hulle stem saam met Safranksi (2005:14) wat van mening is dat daar nie meer ’n vanselfsprekende verband bestaan tussen opvoeding en die rol wat dit binne die samelewing speel nie. Hierdie leemte word in jeugverhale weerspieël (Joosen en Vloeberghs 2008:131). Jeugdiges wil graag met realistiese en herkenbare karakters identifiseer, lees graag verhale met psigologiese diepte wat hulle kritiese denke verg, en ondersoek die kompleksiteit van emosies. Lees behoort tot nadenke te lei, maar die verhale hoef nie noodwendig oop eindes te bevat nie. Jeugdiges het ook behoefte aan begeleiding wanneer oor omstrede kwessies gelees word. Op 15-jarige ouderdom word van Nederlandse jeugdiges verwag om volwasseneliteratuur te lees. Jeugliteratuur kan in Nederland as oorgangsliteratuur beskou word (Joosen en Vloeberghs 2008:148). In hierdie fase het die persoonlikheid, die intellektuele vermoë en die kulturele milieu van die jeugdige leser ’n invloed op sy literêre ontwikkeling om meerdere interpretasies te kan maak (Kamp e.a. 2019). 

Afrikaanse jeugverhale het ’n heelwat korter geskiedenis as dié in Nederland. Daar was enkele jeugtekste voor die 20ste eeu, maar die ontwikkeling van Afrikaanse jeugverhale is eers vanaf die 1960’s en 1970’s noemenswaardig. 

Afrikaanse jeugverhale het drastiese verandering ondergaan wat onderwerpe en temas betref (Kaplan 2005:11). Van der Walt (2005:26–30) verduidelik dat daar voor die 21ste eeu spesifieke temas in Afrikaanse jeugverhale was. In die 1950’s was die temas idillies van aard. Gedurende die 1960’s en 1970’s is weg beweeg van die landelike en idilliese agtergrond en is die tema van die jeugdige wat probleme ervaar, ondersoek. Tydens die 1980’s en 1990’s is daar ’n subtiele aanraking van politieke en sosiologiese probleme van die land en onderwerpe soos apartheid, rassisme en die onreg van die verlede is aangeraak. Die probleme wat jeugdiges ervaar, word belig, onder andere egskeiding, enkelouergesinne, gestremdheid, aanpassing, tienerseks en veranderende morele waardes. Die tradisionele hiërargiese familiestruktuur verskuif na die enkelouergesin en die afwesige vaderfiguur. ’n Duidelike tendens in hedendaagse jeugverhale strek verder as gebroke ouer-kind-verhoudings. Dit sluit ook ander omstrede kwessies (onder andere kuberkrakery, selfdood, homoseksualiteit, alkohol- en dwelmmisbruik, molestering, verkragting en bloedskande) in. Hierdie tendens kan moontlik toegeskryf word aan die drastiese veranderende neigings in die Suid-Afrikaanse samelewing.

4.3.3 Leesbehoeftes en -voorkeure van jeugdige lesers 

Wanneer voorgeskrewe werke op skoolvlak beplan word, behoort daar voorkeur verleen te word aan die jeugdiges se leesvoorkeure en -behoeftes. Volgens die witskrif van die Young Adult Library Services Association (YALSA) soos saamgestel deur Cart (2008:1–4) is jeugverhale gerig op die behoeftes van die jeugdige leser. Hierdie behoeftes verwys dikwels na die ontwikkelingsbehoeftes van die jeugdige leser en beklemtoon dat die jeugdige in ’n staat van fisieke, intellektuele, emosionele en sosiale gedaanteverwisseling vanaf jeugdigheid na volwassenheid verkeer; alles in ’n poging op soek na ’n eie identiteit. 

Vir Nederlandse 12-jariges is lees onbelangrik as gevolg van hulle liggaamlike, psigologiese en sosiale veranderinge en voorts bestee hulle, namate hulle ouer word, hul tyd aan sport, sosialisering, inkopies, speletjies en sosiale media. As gevolg van hierdie afleidingsbedrywighede bevind Nederlandse 12- tot 18-jariges hulle in ’n leeskrisis. Onderlinge verskille binne hierdie groep wat leesmotivering, -voorkeure en -bevoegdheid betref, is beduidend (Kamp e.a. 2019). Daar is entoesiastiese lesers, maar die helfte van die 15-jariges lees nooit of byna nooit in hulle vrye tyd nie (OECD 2018).

Oor die algemeen lees Nederlandse jeugdiges, ondanks die bogenoemde, tog graag oor probleme waarmee hulle self te doen kry. Hulle lees oor hulle emosionele belewenis van onderwerpe soos persoonlike identiteit, vriendskap en groepsdruk, die veranderende verhouding met hulle ouers, liefde en seksualiteit. Joosen en Vloeberghs (2008:105–16) is van mening dat hierdie tipe jeugverhale aan letterkundige kwaliteit ontbreek, aangesien dit hoofsaaklik problematiekverklarende woorde en humorlose toestande wat deernis wek, bevat. Verhale met betekenisvolle lewensvraagstukke kom wel in volwassene- en jeugverhale voor en verg meer emosionele intelligensie van die leser as die eenvoudig resepmatige jeugverhale.

Afrikaanse jeugdiges verkies realistiese fiksie, eietydse jeugverhale van omstrede aard en stories waarin wense bewaarheid word. Sekere jeugdiges binne hierdie ouderdomsgroep versteek romans binne handboeke om tydens onderriggebeure te lees; hulle bly saans later wakker om te kan lees en gebruik lees as ’n ontsnapping van sosiale druk. Daarteenoor lees 14- tot 18-jariges ter wille van verkenning buite die self. Hierdie jeugdiges verkies wetenskapfiksie, asook verhale met sosiale probleme en omstrede onderwerpe as temas. Hierdie groep jeugdiges begin hulle eie boeke koop, kry voorstelle van goeie boeke van hulle portuurgroep en lees meer as net die skool se voorgeskrewe boeke (Lessing-Venter en Snyman 2017).

Uit ’n ondersoek wat deur Vos (2006) onderneem is, blyk ’n groep Afrikaanssprekende jeugdige lesers van mening te wees dat eietydse probleme en lewensvraagstukke wel in jeugverhale aangespreek kan word, want dit is lewenswerklike kwessies waarmee hulle uitgedaag word. Hulle wil egter nie op ’n vermanende trant met omstrede kwessies in jeugverhale belas word nie. Die leesvoorkeure van hierdie groep Afrikaanssprekende jeugdiges kon met hulle gunstelingtydverdrywe, soos sport en musiek, gekombineer word. Voorkeuronderwerpe was liefdesverhoudings, avontuur, sport, verhoudings met maats, die bonatuurlike, diere en jag. Jeugdiges verkies positiewe, opbouende onderwerpe wanneer hulle lees wat waardevol vir eie identiteitsontwikkeling kan wees. Hulle het aangedui dat hulle meer in die positiewe belangstel, omdat dit moontlik hulle bewuste of onbewuste strewe is om self optimisties oor die lewe te wees. Die deelnemers in die studie deur Vos dui liefdes-, vriendskaps-, avontuur-, koshuis-, asook speurverhale as genrevoorkeure aan. Reeksboeke is besonder gewild onder hierdie groep deelnemers. Vos beveel aan dat daar deurentyd gepoog moet word om boeke aan die spesifieke lesersgroep beskikbaar te stel waarin ’n jeugdige die hoofkarakter is met wie hulle makliker kan identifiseer. Snyman se studie (2006:145–79) het dieselfde resultaat opgelewer, maar sy het bygevoeg dat die hoofkarakter verkieslik deel van ’n groep maats moet wees.

Humor is belangrik vir die ontwikkeling van die individu en vir die geestesgesondheid van ’n samelewing (Van Niekerk en Van der Westhuizen 2004:151). Die Afrikaanssprekende deelnemers het in studies deur Vos (2006) en Lessing-Venter en Snyman (2017) aangedui dat humor vir hulle belangrik is, maar boonop moet die gebeure in verhale avontuurlik en spannend wees. Voorts bepaal die slotgebeure die sukses van ’n verhaal. Volgens die studie deur Vos (2006) verkies die meeste jeugdiges ’n gelukkige slot, wat daarop dui dat ’n oplossing vir hulle probleme uiteindelik verlang word; daarom moet verhale hulle nie in die duister laat of uitsigloos eindig nie.

Die titel en die buitebladontwerp van ’n jeugverhaal is vir Afrikaanssprekende jeugdiges deurslaggewend in die keuse van ’n boek. Die buitebladontwerp van jeugverhale moet nie net kleurvol en aantreklik wees nie, maar die jeugdige karakter moet verkieslik deel van die illustrasies vorm om sodoende die bepaalde konteks vir die inhoud van die verhaal te skep. Voorts moet die buitebladontwerp die tema van die jeugverhaal ondersteun (Joubert 2001; Vos 2006). ’n Groot persentasie jeugdige lesers verkies dat jeugverhaalskrywers liefs volwassenes moet wees, aangesien jeugdiges volwassenes as rolmodelle en as ingeligtes beskou (Vos 2006). 

In verskeie studies is bevind dat die taalgebruik in jeugverhale verkieslik met die algemene omgangstaal van jeugdiges moet ooreenstem, want dit is die soort taalgebruik wat jeugdiges gebruik en waarmee hulle kan identifiseer (Worthy, Patterson, Salas, Prater en Turner 2002:177–202; Beers 2003, Vos 2006). Snyman (2006:145–79) het dieselfde bevind, maar ook dat seuns oor die algemeen meer verdraagsaam jeens vloekwoorde is. 

4.3.4 Leeskultuur en -motivering 

Jeugverhale word meestal deur volwassenes geskryf, uitgegee en versprei. Rolspelers soos uitgewers, boekhandelaars, bibliotekarisse, kritici, onderwysers en ouers bepaal watter boeke jeugdiges bereik. Hierdie rolspelers wysig die kommunikasiemodel van Jakobson (1960) wat in sy eenvoudigste vorm ’n skrywer, teks en leser impliseer. Tussen die teks en die uiteindelike leser van jeugverhale speel volwassenes ’n bemiddelende rol (Ghesquière 2009:25). 

Alhoewel die portuurgroep vir Nederlandse jeugdiges belangrik is, speel volwasse medieerders steeds ’n belangrike rol (Van Coillie 1999; Ghesquière 2009). Die leeslyste in die Nederlandse Voortgesette Onderwys, asook die lyste van voorgeskrewe werke in Suid-Afrika (veral in die VOO-fase) is goeie voorbeelde hiervan.

Vir Nederlandse jeugdiges speel ouers bykans geen rol in hulle leeskeuses nie. Die invloed van sosiale media en hulle portuurgroep is oorheersend. Uitgewers kies manuskripte wat hulle dink in die smaak van jeugdige lesers sal val en wat by die profiel van hulle uitgewery pas, hetsy dit literêr van aard is en of dit spanningsverhale of kommersiële reekse is (Mooren, Ghonem-Woets, Van Koeven, Kurvers en Verschuren 2012). Die bemarking en kommunikasie verloop via sosiale media. Jeugverhaalskrywers beskik dikwels oor hulle eie webtuistes. Jeuglesers word geprikkel deur onder andere lokfilms en resensies, skrywers wat skole besoek, deelname aan aanlyn leeskringe en deur aan kompetisies deel te neem. Bemarkingsmateriaal, soos T-hemde met suksesvolle boeke as tema, speel ’n belangrike rol in bemarking en die leesbelangstelling van jeugdiges. Onderwysers kan ook van hierdie beloningstrategieë gebruik maak deur onder andere kompetisies te loods, leerders te beloon of ’n boek per week bekend te stel. Dit bly die onderwyser se taak om jeugdiges tot lees aan te moedig, tekskeuses uit te oefen, die leesproses te begelei en die leerders tot kritiese denke uit te daag (Kamp e.a. 2019).

Die leeskultuur in Nederland is kommerwekkend. Verskeie tydskrifte oor jeugliteratuur bestaan nie meer nie (De Jong 2012). Alhoewel vele leesbevorderingsinisiatiewe in Nederland bestaan, soos jeugdiges wat jeugliteratuur beoordeel, leesuitdagingsprojekte waaraan bekende Nederlanders deelneem en multimediaprogramme, bly lees vir die meeste jeugdiges slegs ’n skoolverpligting (Kamp e.a. 2019:118–20, 130–3). Ondanks die aanbod van jeugliteratuur word min gelees en word die belang van jeugliteratuur nie bespreek nie. Ghesquière e.a. (2014:55) bespiegel of jeugliteratuur nog met ander media kan meeding en of jeugdiges nog tyd het om te lees. Vergelykende navorsing toon dat hierdie bespiegelinge van genoemde skrywers wel gegrond is, aangesien leesgenot heeltemal afwesig by Nederlandse jeugdiges is, wat kommerwekkend is (Gubbels, Van Langen, Maassen en Meelissen 2019:34). Die ministerie van onderwys het daarom besluit om ’n leesveldtog van stapel te stuur om leesmotivering en -genot te stimuleer. Hierdie veldtog moet, volgens die Nederlandse belange-organisasie van skoolbestuur in die Voortgesette Onderwysfase (VO-raad), middel-2020 gereed wees. In Suid-Afrika bestaan daar soortgelyke strategieë en veldtogte om die leeskultuur te bevorder, soos die National Reading Strategy (DBO 2008) en die Read to Lead-veldtog (DBO 2014). 

In Suid-Afrika het ’n groep jeugdige respondente in ’n studie deur Vos (2014:226–7) getoon dat hulle redelik neutraal oor leesaktiwiteite staan: Lees het vir hulle inligtings-, maar geen ontspanningswaarde nie. Hierdie groep respondente is meer op sosiale media ingestel en besoek bykans nooit biblioteke nie. Hulle ouers en portuurgroep motiveer hulle nie om te lees nie, maar die taalonderwyser het wel die grootste impak op hulle leesmotivering. Hierdie jeugdiges hou van avontuurverhale en verhale wat op die geheimsinnige fokus. Voorts skram hulle ook nie weg van verhale wat omstrede kwessies bevat nie. Meisies lees meer as seuns, maar seuns is wel meer mededingend tydens leesaktiwiteite, aangesien seuns vir punte of ’n prys sal lees of sal lees om die leestaak eerste af te handel.

4.4 Historiografiese beskrywing van Nederlandse en Afrikaanse jeugverhale

4.4.1 Inleiding

Wêreldwyd kom daar algemene ontwikkelingsfases in jeugverhale na vore. Volgens Shavit (1986:136–7) is die totstandkoming van taal die eerste vereiste en volgens Oosthuizen (2010:64) is religie en die totstandkoming van skole die tweede vereiste. Die tweede ontwikkelingsfase behels kommersiële moralisties-opvoedkundige verhale; die derde ontwikkelingsfase didaktiese en informatiewe jeugverhale; en die vierde fase die bewuswording van die heterogene werklikheid (Snyman 1983:93–103; Shavit 1986:136–45). Hierdie fases kom duidelik in die ontwikkeling van Nederlandse en Afrikaanse jeugverhale voor. Die standaardisering van Nederlands het aan die begin van die 19de eeu ’n aanvang geneem terwyl Afrikaans se standaardisering eers aan die einde van die 19de eeu begin het (Raidt 1991:53, 249). Dit gee daartoe aanleiding dat die ontwikkelingsfases van Nederlandse en Afrikaanse jeugverhale nie ten opsigte van die eerste fase ooreenstem nie, maar wel ten opsigte van die tweede tot vierde fases.

Vervolgens volg ’n historiografiese beskrywing aan die hand van ’n eng transhistoriese benadering van die ontwikkeling van Nederlandse en Afrikaanse jeugverhale. 

’n Historiografiese beskrywing van jeugverhale het volgens Peters (1997:434) twee doelwitte. Eerstens moet die tydgleuf, die betrokke skrywers en die belang van die werke duidelik wees. Tweedens moet dit duidelik word waarom hierdie verhale en skrywers juis as belangrik geag word. Ankersmit (2008:217–21), Van der Westhuizen (2016:377) en Botha (2007:24) verduidelik dat ’n historiografiese beskrywing die gepaste ontwerp is om bepaalde tydperke en aspekte te beskryf, aangesien hierdie model ook sosiopolitieke gebeure en bepaalde tydstendense betrek om die ontwikkeling van jeugverhale beter te verstaan. Van der Westhuizen (2016:419) is voorts van mening dat jeugverhaalskrywers se werk nie volgens ’n spesifieke dekade of tydvak geplaas hoef te word nie, veral as dit transhistories benader word (Van der Westhuizen 2016:399). Jeugverhaalskrywers debuteer wel in ’n bepaalde dekade (wat ’n outobiografiese invloed op daardie skrywers se eie lewenservaring het), maar aangesien skrywers oor dekades heen skryf, moet daar soms noodgedwonge sosiopolitieke aanpassings in hulle werk gemaak word. 

4.4.2 ’n Transhistoriese benadering tot Nederlandse en Afrikaanse jeugverhale3

Tot die Tweede Wêreldoorlog in Europa was jeugverhale konvensioneel en moralisties van aard. Die Nederlandse jeug was naïef en geborge teen gevare van buite (Ghesquière, Joosen en Van Lierop-Debrauwer 2014) en opvoeding was volgens Vloeberghs (2006:21) eng. Gedurende die tydperk tussen die twee wêreldoorloë het Nederlandse jeugliteratuur hoofsaaklik uit seun- en meisieverhale bestaan en afsonderlike jeugreekse is vir die twee geslagte uitgegee (Ros en De Jonckheere 2004:251). 

Die Afrikaanse kind is gedurende hierdie tydperk ook geborge en eng opgevoed en die eerste Afrikaanse jeugverhale word volgens Van der Walt (2005b:4–5) gekenmerk aan die oordra van geloofsoortuiging, ideologie en moraliteit en is dit nie noodwendig geskryf met moontlike leesgenot in gedagte nie. 

Na die Tweede Wêreldoorlog het ’n verandering in die Nederlandse jeug na vore getree. Daar word verwys na die “verwildering van die jeug” wat gepaard gegaan het met ’n verlies aan lewensideale. Dit het in passiewe ontspanning (radio en film) gestalte gevind (Langeveld 1952:56–7), terwyl die Tweede Wêreldoorlog en die gevolge daarvan nie in Suid-Afrika so intens beleef is nie. Bowendien het daar nog nie televisie bestaan nie en is Afrikaanse kinders tuis en op skool steeds volgens Christelike waardes opgevoed. 

Die verandering wat gedurende hierdie tydperk in Nederlandse jeugverhale na vore getree het, is deur Schmidt (1954:73) verwelkom, aangesien die tyd van dapper helde en skrikwekkende gebeure volgens hierdie skrywer verby was. Tog is die Nederlandse jeugverhale wat aanvanklik in hierdie era geskryf is, deur kritici as ontoereikend beskou. Die aanbreek van die sestigerjare van die vorige eeu het ’n revolusionêre tydperk in die Nederlandse samelewing ingelui. Nederlandse ouers het byvoorbeeld, in teenstelling met Afrikaanse ouers, van ’n anti-outoritêre ouerskapstyl begin gebruik maak wat ’n invloed op die ontwikkeling van jeugdiges uitgeoefen het.

Dit blyk dat daar in hierdie era nie geskikte Nederlandse jeugverhale vir jeugdiges bestaan het nie, aangesien hulle te groot was vir Arendsoog, maar te jonk vir Hermanns. Hierdie gaping wat ontstaan het, het volgens Baudoin (1983:27) die moontlikheid van sosiale en sielkundige probleme vir jeugdiges ingehou, aangesien Nederlandse jeugverhale verstandige karakters, maar óók omstrede kwessies wat in hierdie tydperk in volwasseneliteratuur gebruik is, bevat het (Van Lierop-Debrauwer en Bastiaansen-Harks 2005:45). 

Miep Diekmann, ’n sleutelfiguur in die naoorlogse Nederlandse jeugliteratuur, skryf vernuwende jeugverhale en hierdie skrywer se invloed is veral in die sestiger- en sewentigerjare sigbaar (De Vries 1989:21). Diekmann se jeugverhaal De dagen van Olim (1971) lyk dalk aanvanklik soos ’n klassieke verhaal vir meisies, maar die skrywer wou met hierdie realistiese verhaal die jeugleser nie moraliseer nie. Die hoofkarakter, Josje, het as 14-jarige meisie in Curaçao emosioneel by skynheilige volwassenes, asook by seksuele en rassekwessies betrokke geraak (Kamp e.a. 2019:60).

Tonke Dragt is prontuit uitgesproke in haar fantasieverhale soos De brief voor de koning (1962) en De geheim van het wilde woud (1965). Hierdie jeugverhale was gewild en is tydloos en het met verbeeldingskrag alle lesers geïnspireer (Eiselin 2002:73). Dragt kombineer in jeugverhale epos met liriek; wetenskap met beelde; sprokies met ridderverhale; en moraliteit met avontuur. Dragt se werk is verfilm en in verskeie tale vertaal (Linders 2010:186).

Van der Westhuizen (2016:378) meen dat die ontwikkeling van Afrikaanse jeugverhale veranderings- en vernuwingspatrone toon wat soortgelyk is aan die ontwikkelingsfases van internasionale jeugverhale wat temas (die natuur), motiewe (individualisme en buitestanderskap), inhoud en taalbewustheid betref.

Sedert die dertigerjare van die vorige eeu het Afrikaans se literêre tradisie ’n aanvang geneem en Afrikaanse skrywers het die uitdaging om ’n nasionale literatuur met ’n eie karakter te vestig aanvaar (Giliomee en Mbenga 2007:285). Dit het ’n toename in die aanvraag na Afrikaanse jeugverhale laat ontstaan. Van der Walt (2005b:19–21) meen dat dit onder andere daartoe gelei het dat die kwantiteit van jeugverhale toegeneem het, maar nie soseer die kwaliteit nie – ’n soortgelyke probleem wat die publikasie van Nederlandse jeugverhale betref voordat daar vernuwing ingetree het. Die eerste Afrikaanse jeugverhale is volgens Van der Walt (2005b:4–5) ook daaraan gekenmerk dat hulle religie, ideologie en moraliteit oorgedra het en nie noodwendig vir die genot daarvan geskryf nie. 

Afrikaanse jeugverhaalskrywers skryf in die sestiger- en sewentigerjare teen die sosiopolitieke agtergrond van apartheid. Apartheid het aanleiding gegee tot onder andere kulturele isolasie, asook verminderde kontak tussen Afrikaans- en Nederlandssprekendes (Van der Westhuizen 2016:390). Afrikaanse jeugverhale was verder ook eerstens aan staatsensuurwette, en tweedens aan regerings- en opvoedkundige voorskrifte onderworpe. Van der Walt (2005b:25–9) is van mening dat alhoewel die regering Afrikaanse uitgewers ondersteun het, dit terselfdertyd ook beperkend was ten opsigte van skrywersvryheid. Afrikaanse skrywers het toenemend daarvan bewus geword dat die Suid-Afrikaanse samelewing heterogeen en nie so homogeen was as wat die tradisionele Afrikaanse jeugverhale geïmpliseer het nie, en dat skrywers dus versigtig moes wees wat hulle skryf. 

In hierdie dekade (1960 tot 1970) tree meer Afrikaanse jeugverhaalskrywers in Suid-Afrika na vore. Gedurende hierdie tydvak groei nasionalisme steeds in Suid-Afrika en die bekende N.P. Van Wyk Louw spoor skrywers aan om vernuwend te skryf en ruimtes te skep waarin Afrikanerskap weerspieël word. Dit beïnvloed ook Afrikaanse jeugverhaalskrywers, en ’n milieuverandering (van die idilliese landelike na stedelike ruimtes) in Afrikaanse jeugliteratuur tree na vore. Veelsydige Afrikaanse jeugverhaalskrywers soos Hester Heese, Rona Rupert en Freda Linde skets verhoudings tussen verskillende ouderdomme sowel as verskillende rasse sensitief; raak aan omstrede kwessies van dié tyd, soos egskeiding; en maak gebruik van sterk karakters wat bo hulle probleme uitstyg (Van Zyl 2010:398; Oosthuizen 2010:72) – dit toon ooreenkomste met die tendense in Nederland soos in Kruistocht in Spijkerbroek (1973) deur Thea Beckman en De Marokkaan en de kat van tante Da (1972) deur Henk Barnard.

Die bekende Nederlandse jeugverhaal Koning van Katoren (1971) deur die politikus Jan Terlouw verskyn in die vroeë sewentigerjare in Nederland en is ook vir ’n bepaalde tyd vir Afrikaanse skole voorgeskryf. Dit is ’n fantasieverhaal oor die land Katoren, waarin sosiale en omgewingsprobleme soos omgewings- en geraasbesoedeling, die wapenwedloop en magsmisbruik voorkom en die jeugkarakter, Stach, moet hierdie kwessies oplos. Met hierdie verhaal raak Terlouw politieke knelpunte aan (Kamp e.a. 2019:58–9).

Jeugverhale begin in die 1970’s tot 1980’s vroeëre literêre grense oorskry deur toenemend sosiale en psigologiese kwessies in te sluit (Baudoin 1983:27). Die rede vir die voorkoms van omstrede kwessies in Nederlandse jeugliteratuur is veranderende sosiale omstandighede, maar volgens Baudoin (1983:29) kan hierdie verandering ook toegeskryf word aan kritiese opvoedkundiges, resensente en uitgewers wat ’n mark vir verhale van omstrede aard gesien het.

Die feminis Thea Beckman is volgens Micheels (2017) een van Nederland se grootste jeugverhaalskrywers en in haar verhale staan bevryde meisies byvoorbeeld op vir hulle regte. Mariecke, die hoofkarakter in die topverkoper Kruistocht in Spijkerbroek (1973), is ’n voorbeeld van ’n onafhanklike meisie wat haar eie keuses uitoefen. Sy moet byvoorbeeld dankbaar wees dat ’n seun haar gered het, maar weier. De Marokkaan en de kat van tante Da deur Henk Barnard (1972) is met die Goue Griffel bekroon (die hoogste toekenning vir Nederlandse jeugliteratuur). Die motivering vir die bekroning was die feit dat Barnard die omstrede gasarbeiderprobleem op ’n ligte trant aangepak het, alhoewel die verhaal volgens Goeman-Van Randen (1973) nog aan literêre waarde ontbreek het.

In Guus Kuijer se Op je kop in de prullenbak (1977) werp die Madelief-karakter norme omver en daag sy gesag uit. Kuijer lewer sosiale kommentaar in sy verhale en beeld voorts vindingryke en veerkragtige jeugkarakters uit wat dit waag om vrae te stel. De witte pest (1978) van Angela Matthews is ook ’n voorbeeld van ’n jeugverhaal wat omstrede kwessies aanraak, maar volgens Vloeberghs (2006) aan literêre onderbou ontbreek. Hierdie verhaal word deur ’n alwetende verteller aangebied wat volle beheer oor die waarheid het (Mathys 2005). Omstrede kwessies wat in die verhaal ingesluit word, is onder andere die verlies aan kulturele identiteit, dwelmgebruik, rassisme, molestering, selfdoodpoging, ’n lesbiese verhouding asook ’n pynlike heteroseksuele ervaring. Volgens De Sterck (1997:87) word soortgelyke verhale in die Nederlandse volksmond kommer-en-kwel-verhale genoem.

In Suid-Afrika was, soos ook in Nederland, gedurende vorige dekades sogenaamde goeie literêre boeke in Afrikaans aan die orde van die dag, maar stelselmatig is daar in Suid-Afrika van beperkings wat aan skrywers van “goeie boeke” gestel is, wegbeweeg. Die Afrikaanse lekkerleesverhale wat as reaksie op “goeie literêre boeke” verskyn het, is aanvanklik nie goed deur literatore ontvang nie (Van der Westhuizen 2016:399). Die skryfstyl van Afrikaanse jeugverhale sedert die sestigerjare stem ooreen met dié in die res van die wêreld ten opsigte van modernistiese taalgebruik en die insluiting van gekompliseerde verhoudings en komplekse karakters (Van der Westhuizen 2016:394). 

In navolging van internasionale neigings sien bekende Afrikaanse jeugreekse, soos die Jasper-reeks (1959–1971) deur C.F. Beyers-Boshoff, in hierdie tydperk die lig en herleef in die tagtigerjare in herdrukke daarvan. A.A.J. van Niekerk se volksverhale vir die Afrikaanse jeug skets die Afrika-werklikheid wat verskeie Suid-Afrikaanse groeperinge se wêrelde bymekaar bring (Van der Westhuizen 2016:393). Die veelsydige Elsabé Steenberg se jeugverhale toon – soos die jeugreeks van Beyers-Boshoff – reeds lank voor die demokratisering van Suid-Afrika (1994) begrip oor die diverse Suid-Afrikaanse samelewing (Van der Westhuizen 2016:397). 

In die 1970’s ontstaan reformatoriese onderwys in Nederland as ’n reaksie op die vrye tydsgees van die sestigerjare. In reformatoriese skole word slegs konvensionele verhale toegelaat, terwyl die deursneejeugverhaal van die sewentigerjare steeds as revolusionêr beskou word. Ortodokse Christelike wou nie hulle leerders aan verhale met omstrede kwessies blootstel nie en by belydenisskole speel onderwysers die rol van medieerders om leerders tot die kritiese lees van verhale te begelei (Dirksen 1999:19). Tuis kies Nederlandse ouers verhale volgens hulle eie voorkeure by uitgewers wat verhale publiseer wat met hulle opvoedingsideale ooreenstem. Literatuur uit hierdie era was hoofsaaklik gerig op sosialisering binne eie homogene kringe en Christelike skrywers het hiertoe bygedra. Verder is herdrukke (met nuwe voorblaaie) van verouderde Nederlandse jeugverhale gelees (Van Koeven 2011:69; Sanders 2017:183). Hierdie tipe verhale bevat gewoonlik ’n aantal kenmerke van lees vir ontspanning en genot: eenvoudige humor; clichés; stereotiperende karakters; onwaarskynlike intriges; sensasionele, sentimentele en kru taal; en die verhale eindig voorspelbaar (Ghesquière 2009:180). Die behoudende tendens het tot gevolg gehad dat geen openbare debat oor die voorkoms van omstrede kwessies in jeugverhale in Nederland gevoer is nie (Van Duin 2009:134). Aan die einde van die 1970’s het die oplewing van verhale van omstrede aard in Nederland begin afneem, maar sommige skrywers, onder andere Paul Biegel, en jeugverhale soos Het sleutelkruid (1964) en De tuinen van Dorr (1969), is tydloos. 

Snyman (2001:54) is van mening dat Afrikanernasionalisme en Afrikaans as taal tydens die sewentigerjare veral met die opening van die Afrikaanse Taalmonument ’n hoogtepunt bereik het. Die koms van televisie na Suid-Afrika in die sewentigerjare het visuele stimulasie vergroot en dit was volgens Venter (2006:158–9) en Van der Westhuizen (2016:394) kompetisie vir die Afrikaanse boek. Hierteenoor beskou Diedericks-Hugo (2008) die destydse vrees dat televisie die jeugboek sou oorneem, eerder as ’n ongegronde vrees wat ouers gehad het. Sensuurwette van die Nasionale Party het volgens Van der Westhuizen (2016:399) probeer om moraliteit en Christelike oortuigings te bevorder en orde te handhaaf, maar terselfdertyd ook om omstrede literatuur, geweld, onrus en seksuele immoraliteit in Suid-Afrika te verhoed.

Dit is juis gedurende hierdie tydperk dat Dolf van Niekerk na vore tree met vernuwende en verwikkelde jeugverhale soos Die son struikel (1961). In kenmerkend modernistiese trant word die vervaging van grense, die antiheld, modernistiese taalgebruik en die buitestander ingesluit (Van der Westhuizen 2016:394). Hieruit blyk dit dat literêre standaarde van Afrikaanse jeugverhale begin verander het, want alhoewel jeugverhale in die 1970’s goed bedoel is, het dit (net soos in die geval van Nederlandse jeugliteratuur) nie volgens die kritici aan literêre standaarde voldoen nie.

Nederlandse jeugverhaalskrywers het in die tagtigerjare van die vorige eeu begin om met literêre tegnieke te eksperimenteer en dit het verbeterde kwaliteit en kunsstyl tot gevolg gehad. Die protagonis se bestaan as individu word in Nederlandse jeugverhale beskryf en sielkundige ervarings soos liefde, seks en die dood word daarby betrek. Dit lei tot die vervaging van grense tussen jeug- en volwasseneliteratuur en het die verskyning van Nederlandse oorgangsliteratuur tot gevolg gehad. Van Hoven en Van Lierop-Debrauwer (2014:389) is van mening dat indien jeugdiges oorgangsliteratuur lees, die oorgang na volwasseneliteratuur gemakliker verloop. Dieselfde neiging is in Afrikaanse jeugverhale soos Die son struikel, Vlerkdans (1992) en Skilpoppe (1998) deur Barrie Hough, Roepman (2004) deur Jan van Tonder, BreinBliksem (2005) en Pleisters vir die dooies (2014) deur Fanie Viljoen, asook Sindikaat (2019) deur Annerle Barnard waarneembaar.

Nederlandse skrywers soos Joke van Leeuwen, Toon Tellegen en Ted van Lieshout debuteer in die 1980’s en hulle werke toon literêre gehalte in sowel jeug- as volwasseneliteratuur. Dit dien as bewys dat jeugverhale nie as ’n minderwaardige genre beskou hoef te word nie. Toon Tellegen is ook bekend vir die skryf van ultrakort diereverhale. Hierdie verhale is bykans nooit langer as twee bladsye nie en bestaan grootliks uit dialoog en oorpeinsing. Tellegen is konsekwent ten opsigte van skryfwyse en woordgebruik. Hierdie diereverhale is absurd van aard – ’n seekoei sweef byvoorbeeld in die lug en kry ’n dam as verjaardaggeskenk (Boonstra 1993:23). Tellegen se verhaal Er ging geen dag voorbij (1984) het groot opspraak verwek en was so vernuwend dat kritici nie geweet het hoe om daarop te reageer nie. Bekroonde boeke het op hierdie verhaal gevolg en Bijna iedereen kon omvallen (1994) word as Tellegen se beste werk vir lesers van alle ouderdomme gereken. Wat Afrikaanse jeugverhale betref, kom dieselfde neiging toenemend na vore dat nie net jeugdiges jeugverhale lees nie, maar ook volwasse lesers. Hierdie neiging kan aan die Harry Potter-reeks van J.K. Rowling toegeskryf word (Roux 2020:10–1). Veral vanaf die tagtigerjare word jeugliteratuur as ’n volwaardige genre in Suid-Afrika gehuldig.

Joke van Leeuwen skep buitestanderfigure met humor en speelse taalgebruik en illustrasies. Dit vind aanklank by volwassenes sowel as by die jeug. In Van Leeuwen se verhale word algemene opvattings bevraagteken (Van Duin 2018:116), en Van Hoven (1997:13) loof Van Leeuwen se kreatiwiteit en assosiasieskepping. Haar verhaal Bezoekjaren (1998) handel oor Marokkaanse leerders wat met ’n onderdrukkersgroep geassosieer word en weerspieël haar kenmerkende suggestiewe, pittige skryfstyl en humor. Hiermee gee sy te kenne dat jeuglesers uitstekend met omstrede kwessies kan omgaan mits dit vanuit persoonlike beskouing plaasvind en aandag aan literêre gehalte geskenk word.

Dit is belangrik om Nederlandse jeugliteratuur in samehang met volwasseneliteratuur te beskou, aangesien dit dieselfde neigings getoon het. Daarom is De Vries (1990:68) van mening dat daar nie rekening gehou is met die bedoelde leser nie. Dit het ’n negatiewe impak op die lees van hierdie verhale gehad, aangesien jeuglesers hulle nie hiermee kon vereenselwig nie. Teen die einde van die tagtigerjare is Nederlandse jeugverhale as genre hiervan bevry en as kunsvorm beskou (Van Lierop-Debrauwer en Ghonem-Woets 2009).

Sedert 1990 ontwikkel goeie-gehalte- Nederlandse jeugverhale vinniger (Van Hoven en Van Lierop-Debrauwer 2014:392). Jeugdiges se keuses en probleme word literêr in verhale van onder andere Peter van Gestel, Karlijn Stoffels (Stiefland 1997) en Lydia Rood (Anansi’s web 2000) verwoord. 

Die tagtigerjare in Suid-Afrika word veral gekenmerk deur verset (onder andere oor Afrikaans as onderrigtaal, asook sosiopolitieke omstandighede). Sensuurwette word steeds in hierdie dekade gehandhaaf, maar ten spyte daarvan sluit Afrikaanse jeugverhale sedert die tagtigerjare toenemend Suid-Afrikaanse sosiopolitieke inhoude in, alhoewel nie alle Afrikaanse jeugverhaalskrywers daaroor skryf nie, maar eerder op ander relevante temas fokus. Een Afrikaanse jeugverhaal word tog in Suid-Afrika verbied, naamlik Stanley Bekker en die boikot (1986) deur John Miles. Die rede vir die verbod daarvan was dat die teikenleser die Suid-Afrikaanse politieke kwessies daarin glo nie sou verstaan nie. Dit het Afrikaanse jeugverhaalskrywers nie ontmoedig nie en jeugverhale soos dié van Freda Linde, Rona Rupert, Elsabé Steenberg, Maretha Maartens en Barrie Hough waarin ’n mate van uitgesprokenheid voorkom, word gepubliseer (Van der Westhuizen 2016:399–400). Van der Westhuizen (2016:406) meen hierteenoor dat Afrikaanse jeugverhale waarin multikulturele kwessies ter sprake kom, as waardetoevoegend tot die sosiopolitieke veranderinge in Suid-Afrika beskou kan word. Afrikaanse jeugverhaalskrywers soos Hans du Plessis skryf reeds voor die aanvang van die demokratiese Suid-Afrika oor rasse-aangeleenthede in die skool en die groot verskil tussen ryk en arm in Suid-Afrika in die jeugverhale Disse ’n flippen stukkende wêreld dié my ou (1991) en Bakgat, en wat dan van my? (1995) wat baie goed ontvang is. Gedurende die tagtigerjare is daar volgens Van der Westhuizen (2016:405) twee verskynsels in Afrikaanse jeugverhale teenwoordig, naamlik realisme en fantasie, en die taalgebruik van skrywers het gewissel van “gestroopte” tot modernistiese taal. Fransi Phillips se jeugverhale is volgens Beukes (2005:360–2) voorbeelde van ’n samesmelting tussen fantasie en realisme; dit toon ooreenkomste met sprokies en bied kunssinnige karakters wat hulle in probleemverhoudings bevind.

In die negentigerjare van die vorige eeu volg die vervaging van grense in Afrikaanse jeugverhale en kom die ineenskakeling van rasse en kulture in karakterverhoudinge na vore. Volgens Van der Westhuizen (2016:419–20) verander aktiwiteite van jeugverhaalkarakters van sport na tegnologiese aktiwiteite, en jeugverhoudings van onskuldige pret en samesyn na die problematiek waarmee jeugdiges worstel. Betrokke jeugliteratuur wat nie huiwer om sosiopolitieke en omstrede kwessies soos geweld, seks en religie in te sluit nie, tree al meer na vore. Postmodernistiese neigings soos die bevraagtekening van sekerhede en die gebruik van onopgesmukte taal, maar steeds ryk aan taalvernuf, wat die waardering van uitgewers, onderwysers en lesers geniet het, word toenemend in jeugliteratuur opgelet. Voorts verander die tydruimtelike en gebeure in Afrikaanse jeugverhale in samehang met die geskiedenis en sien onder andere historiese jeugverhale die lig. Historiese Afrikaanse jeugverhale oor die Groot Trek en die Tweede Suid-Afrikaanse Oorlog verskyn, soos in die werke van Heléne Roux alias Lien Roux-de Jager. Hesma Nel skryf oor jeugverhoudings tydens die Groot Trek asook spannings- en natuurverhale soos die Arendskruin-reeks (1990). ’n Goeie voorbeeld van nog ’n jeugboekreeks in Afrikaans is die gewilde Reënboogrant-reeks deur Maritha Snyman.

Sterk vroulike jeugkarakters kom in Franci Greyling se verhale voor. Dié neiging stem ooreen met die wêreldwye tendens wat sy oorsprong in Amerika gehad het en ook in Nederlandse jeugverhale soos Kruistocht in Spijkerbroek (1973) teenwoordig is. Greyling se oeuvre word voorts gekenmerk deur historiese verhale en temas soos problematiese gesinsverhoudings en eietydse sosiopolitieke kwessies. Volgens Du Plessis (2005b:248–9) is Greyling se treffendste jeugverhaal Om te wag op ’n duif (1991). Swak gesinskommunikasie en gebroke huisgesinne word in Eleanor Baker se jeugverhaal Daar is spore op die maan (1991) gevind (Du Plessis 2005a:180). 

Niepolitiese temas wat in hierdie tydperk in Afrikaanse jeugverhale voorkom, is die natuur en landskappe asook die verband tussen die jeugkarakter en die natuur soos in verhale van Kowie Rossouw. Hans du Plessis skryf ook ekokritiese jeugverhale soos Verbrande paradys (2009) waarin tydruimtelike ooreenkomste na vore blyk (Van der Westhuizen 2016:407–8).

Afrikaanse jeugverhale beweeg in hierdie tydperk al hoe meer na die “eenkantkind” en die individualis as hoofkarakter. Louis Krüger (van Suid-Afrika, maar predikant in Nederland) skryf oor alleenkinders in moeilike omstandighede, soos waarneembaar in Son op die water (1989), wat ooreenstem met die Nederlandse verhale.

Nog ’n belangrike tema wat in Afrikaanse jeugverhale voorkom, is sport, soos in verhale van Marilee McCallaghan wat onder andere op liggaamlike en geestelike problematiek van die jeugwêreld fokus. Die haasvanger (1968) van Dolf van Niekerk is ’n voorbeeld van ’n Afrikaanse sportjeugverhaal wat as voorgeskrewe werk in skole behandel is. Afrikaanse avontuurverhale van De Waal Venter is gewilde jeugleesstof, en Van der Westhuizen (2016:401) beskou Venter se werk as van die beste wetenskapfiksie. Sy verhale behels realisme, fantasie, spanning en ’n komplekse sameloop van tyd en gebeure, soos in Mieg se kort en lang middag (1995).

’n Afrikaanse jeugverhaalskrywer met ’n eiesoortige stem is volgens Van der Westhuizen (2016:402) Maretha Maartens. Hierdie skrywer se jeugverhale handel veral oor jeugdiges se religieuse belewing en verhoudingskwessies, wat die Nederlandse neiging navolg. Maartens is voorts die skrywer van die eerste Afrikaanse jeugverhaal wat oor seks handel, naamlik ’n Pot vol winter (1989). Hierdie verhaal het baie kritiek ontlok, ondanks die feit dat skrywersvryheid gedurende hierdie tydperk sterk in Suid-Afrika na vore getree het.

Een van die mees grensverskuiwende jeugboeke in Afrikaans is Slinger-slinger (1997) deur François Bloemhof wat op voorhuwelikse seks asook seksuele oriëntasie fokus. Die bekende Afrikaanse jeugverhaalskrywer Barrie Hough skryf volgens Van der Westhuizen (2016:405) getrou aan die werklikheid teen ’n stedelike agtergrond oor aktuele, maar ook omstrede jeugkwessies soos ouerlike emosionele versuim, enkelouerskap, dwelmmisbruik, selfdood en jeugverhoudings. Hierdie temas word ook in die Nederlandse jeugverhale van hierdie tydvak gevind. Hough se verhale is boeiend en spanningvol van aard en sluit intertekstualiteit en wêreldliteratuur in. In die bekroonde verhaal Skilpoppe (1998) word geloof bevraagteken en word die Christelike geloof teenoor Oosterse religieë gestel. Johan de Waal se jeugverhale bevraagteken ook volgens Hambidge (1996:4) die Calvinisme en hy skryf oor gemengde verhoudings. In Derick van der Walt se bekroonde verhaal Toring van Jasmyn (2019) maak drie Afrikaanse jeugdiges (veronderstelde Christene) in Istanbul vriende met ’n Turkse Moslemseun, sy suster (wat deur kultuur en tradisies onderdruk word) en sy familie.

Ongewone gesinsamestelling en -problematiek kom in die pryswennerverhaal Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (2014), deur Marita van der Vyver, voor.
Van der Vyver se jeugverhale is tekste waarmee heelwat hedendaagse Afrikaanse jeuglesers kan identifiseer. Probleme waarmee jeugdiges ’n stryd voer, kom in Marietjie van Rooyen se verhale na vore, byvoorbeeld eetversteurings in Die vyfletterwoord (1994). Die veerkragtigheid van jeugdiges word in Die pro (1997) deur Leon de Villiers beskryf.

’n Jeugverhaal wat die oningeligte leser meer van die Bo-Kaapse Maleiers en die Moslemgeloof in Suid-Afrika vertel, is Zulfah Otto-Sallies se Diekie van die Bo-Kaap (1997). ’n Verhaal wat beter begrip vir die waardes van inheemse plattelandse bevolkings toon, asook ’n positiewe en sensitiewe blik daarop bied, is Maritha van Aswegen (1999) se Roer jou riete, Pampas (Van der Westhuizen 2016:411).

Afrikaanse jeugverhale bevat kreatiewe Afrikaanse taalgebruik, weerspieël ryk verbeeldingskrag (vergelyk die werk van Jaco Jacobs in hierdie verband) en behels volgens Wybenga (2005:476–79) goeie skrywerskap. Van Coller (2016:766) meen hierdie kenmerke is in George Weideman se toeganklike oeuvre, byvoorbeeld in Die optog van die aftjoppers (1994), teenwoordig.

Met die aanbreek van die nuwe millennium bring internasionalisering en ander media as net die klassieke boek dramatiese veranderinge ten opsigte van die literêre landskap van jeugdiges mee. In die 21ste eeu is fantasieë wêreldwyd in jeugverhale teenwoordig. Die Harry Potter-verskynsel wat kort voor die eeuwisseling ’n aanvang geneem het, het volgens Parleviet (2014:149) grootliks tot hierdie verandering bygedra. Die verfilming van reekse soos Harry Potter, Geronimo Stilton en The hunger games kan veroorsaak dat die jeug wat die visuele bo die gedrukte woord verkies, steeds minder lees.

Nederlandse jeugboeke wat oor omstrede kwessies soos aanranding, teistering op sosiale media, anoreksie en depressie handel, bly steeds in Nederland gewild. Carry Slee en die Vlaming Dirk Bracke se verhale is egter volgens kritici liniêr, nie baie subtiel nie, besit min verhaallyne, en bevat gewoonlik ’n protagonis met konflik en ’n vriend as medekarakter om vir perspektief te sorg. Daarby is dit maklik om te lees, aangesien dit slegs een interpretasie toelaat (Joosen en Vloeberghs 2008). Verskeie Slee-titels is verfilm en sommige van haar boeke, soos Lover of loser (2006), bied interaktiewe interpretasiemoontlikhede soos om self die einde van ’n verhaal te skryf (Kamp e.a. 2019:65). Meer as twee miljoen boeke van Francine Oomen se Hoe overleef ik-reeks (ook verfilm), waarin die skrywer die internet gebruik om interaktiewe interpretasiemoontlikhede aan lesers te bied, is al verkoop (Van Hoven 2011:203). Die interaktiwiteit in die verhale stem byvoorbeeld ooreen met die neiging in Afrikaanse jeugverhale soos Pynstiller (2011) deur Fanie Viljoen, wat ook as ’n selfoonverhaal beskikbaar is, asook Thomas@rock.ster (2013) deur Carina Diedericks-Hugo wat interaktiewe skakels bied na liedjies waarna die lesers kan luister. 

Wat die voorkoms van sterk meisiekarakters in Nederlandse jeugverhale betref, bestaan daar ’n verband tussen die Hoe overleef ik-reeks deur Francine Oomen en die sterk meisiekarakters wat sedert die einde van die 20ste eeu in Amerikaanse jeugboeke voorkom. Dit is ’n nuwe neiging in Nederlandse jeugverhale. Hierdie verhale bevat ambisieuse en selfgeldende meisiekarakters wat hulle vrymoedig oor omstrede kwessies uitspreek. Die MZZL meiden-reeks deur Marion van Coolwijk is onder dié wat ook daardeur beïnvloed is. Van Hoven (2011:105–13) meen dat hierdie gewilde karaktergebonde jeugreekse aan literêre gehalte ontbreek en dat kwantiteit bo kwaliteit gestel word. Tans word Nederlandse jeugverhaalverkope volgens Ghesquière e.a. (2014:53) deur die internet, televisie en ander media negatief beïnvloed.

Nederlandse jeugboeke wat by die tydgees aansluit en omstrede kwessies insluit soos seksuele identiteit, genadedood en vlugtelingkwessies, verskyn in die nuwe millennium. Religie as tema keer terug, aangesien daar in van hierdie Nederlandse jeugverhale oor geloof geskryf word (Dane en Ghesquière 2014:83). In hierdie verhale neem jeugdiges kennis van verskillende waardesisteme – sowel uit die Christendom as uit die Islamitiese tradisie en in ’n mindere mate ander geloofsoortuigings (Hendriks 2018:53). Anders as voorheen word omstrede kwessies hoofsaaklik filosofies benader en is geloofsopvoeding nie, soos tydens die tweede ontwikkelingsfase van die jeugboek, die hooffokus nie (Dane en Ghesquière 2014:83). Hierdie neiging is ook in Afrikaanse jeugverhale soos Skilpoppe deur Barrie Hough (1998) en Toring van Jasmyn deur Derick van der Walt (2019) te bespeur. 

Verhale vir die jeug bevat tans fantasieë en dit lei daartoe dat skrywers van hierdie verhale daarvan beskuldig word dat die sosiale werklikheid nie meer deur hulle betrek word nie. Alhoewel daar in Nederlands jeugreekse oor die jeugdiges se probleme geskryf word, ontbreek dit volgens Ghesquière e.a. (2014:52) aan maatskaplik omstrede kwessies. In reaksie hierop skryf Edward van de Vendel die Slash-reeks waarin ’n jeugdige sy lewensverhaal vertel en as hoofkarakter optree (Ghesquière e.a. 2014). Omstrede onderwerpe soos anoreksie, transseksualiteit, vlugtelinge, seksuele mishandeling en verslawing word betrek, maar Nederlandse jeugverhaalskrywers waarborg steeds die literêre gehalte van hierdie verhale. Verdere Nederlandse jeugverhale van omstrede aard is die outobiografiese verhaal Gebr. (1996) deur Ted van Lieshout wat handel oor homoseksuele broers.

Alhoewel Nederlandse jeugverhale met multikulturele temas al sedert die 1990’s verskyn, soos ook die geval in Afrikaanse jeugverhale is, kom stereotipering en clichés volgens Koster (2012:42) steeds voor. Ernstiger temas word in hierdie tydperk lighartiger aangebied, in byvoorbeeld Stoffels se Marokko aan de plas (2002), waarin die hoofkarakter humorsin toon. Die afgelope tyd het daar volgens De Bruin (2005:174–5) ontwikkeling plaasgevind en is humor is nie meer die uitsondering nie en multikulturaliteit nie meer problematies nie. ’n Goeie voorbeeld hiervan is Otis (2017) deur Martijn Niemeijer. Otis woon in ’n woonstelgebou met 1 200 mense met tientalle nasionaliteite. Die etnisiteit van Otis – en dié van die ander karakters – is nie problematies nie. Hier is geen sprake van diskriminasie, assimilasie of eksklusiwiteit nie, maar die komplekse werklikheid word wel beskryf en daarom is Otis meer as net ’n avontuurverhaal oor multikulturaliteit. 

Sedert die sewentiger- en tagtigerjare het seksualiteit en homoseksualiteit alledaagse temas in Nederlandse jeugverhale geword, maar na afloop van hierdie fase waarin seks onomwonde in jeugverhale voorgekom het, volg ’n ommekeer in die negentigerjare, want ’n sielkundige verdieping kom nou na vore. Na die eeuwisseling kom seksuele identiteit veral na vore en inklusiewe denke oor LGBTI-temas raak prominent, soos in Meisje van Mars (2011) deur Anna Woltz, wat oor transgenderkwessies handel. 

Ander relevante temas wat tans in Nederlandse jeugverhale voorkom, is onder andere genadedood en selfdood, soos in die volgende verhale: Code kattenkruid: hoe mijn opa vrolijk doodging (2018) deur Jacques Vriens; Lang zal ze leven (2014) deur Koos Meinderts; Het leven zelf (2017) deur Roelof ten Napel en De dag die nooit komt (2018) deur Oliver Reps.

Volgens Stratman (2018:1) blyk daar ’n neiging te wees dat jeugverhale donker en stormagtig moet wees met min ruimte vir versoening en hoop. In Nederland kom vele jeugverhale van hierdie aard voor. In die Afrikaanse jeugliteratuur kom daar ook donker en stormagtige verhale voor soos dié deur Fanie Viljoen, maar Afrikaanse jeugverhale bevat gewoonlik hoop, alhoewel dit op ’n pynlike proses volg. ’n Treffende voorbeeld van so ’n Afrikaanse jeugverhaal is die opspraakwekkende Blou is nie ’n kleur nie (2017) deur Carin Krahtz, waarin ontstellend omstrede kwessies soos molestering, verkragting en bloedskande voorkom.

Die grens tussen Nederlandse jeug- en volwasseneliteratuur is feitlik opgehef (Van Hoven en Van Lierop-Debrauwer 2014:403) en wat Afrikaanse literatuur betref, is daar ’n al groter neiging dat volwassenes graag jeugverhale lees.

Na aanvanklike opvoedkundige beweegredes en aanstellerige skryfstyle is Nederlandse jeugverhale bevry van hierdie beperkinge; temas in Nederlandse volwasseneliteratuur word in jeugverhale weerspieël. Die internet en elektroniese media dra by tot ’n afname in die lees van jeugverhale in Nederland. Dit impliseer dat daar in jeugverhale sprake van stagnasie en selfs agteruitgang is wat in teenstelling is met Afrikaanse jeugverhale, aangesien Afrikaanse jeugverhale, danksy onder andere die goeie bemarking daarvan by skole, goed verkoop.

Die nuwe millennium sorg ook volgens Van der Westhuizen (2016:411–2) in Suid-Afrika vir Afrikaanse historiese en toekomsjeugverhale wat op verskeidenheid in die land fokus, asook jeugverhale wat politieke en geloofsaspekte bevraagteken en kenmerke van die postmodernisme toon. Beeldryke taal word minder gebruik, alhoewel taalbewustheid steeds in jeugverhale na vore kom. Voorts word tegnologie en vernuwende media, asook ekologie en natuurbewaring (met die neiging na die positiewe) toenemend as temas in Afrikaanse jeugverhale ingespan. 

Omstrede kwessies soos seks, geweld, politiek en religie wat aanvanklik deur die Suid-Afrikaanse sensuurraad verbied is, tree volgens Van der Westhuizen (2010:167) in hierdie periode sterker in Afrikaanse jeugverhale na vore. In Daar’s vis in die punch (2002) deur Jackie Nagtegaal word die Christelike met die esoteriese vermeng en in Die dinge van ’n kind (2000) deur Marita van der Vyver word onder andere tienerswangerskap betrek en oorlogvoering word deur jeugdige karakters bevraagteken. Hierdie skrywer se Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (2002), wat ook intussen verfilm is, fokus op ongewone gesinsamestelling, seksuele oriëntasie en kunsmatige bevrugting. Die gevolge van verkragting en dwelmverslawing is temas in Tippex dit uit (2001) deur Anna-Marie Conradie.

Een van die bekendste Afrikaanse jeugverhaalskrywers, Fanie Viljoen, huiwer nie om oor omstrede kwessies te skryf nie. Die omstrede BreinBliksem (2005) sluit seks, geweld en skisofrenie in. Volgens Van der Westhuizen (2016:415–6) het Viljoen in Onderwêreld (2008) ’n verband tussen karakterisering, spannende gebeure en kubermisdaad geskep. Viljoen se magies-realistiese jeugverhaal Betower (2008) handel oor seksspeletjies, geheime, asook jeugliefde; terwyl Pleisters vir die dooies (2014) ’n psigotiese ervaring van die hoofkarakter insluit; Veldiep (2018) betrek selfskending en Brand (2019) ’n obsessie met vuur.

Nuwe temas wat in Afrikaanse jeugverhale gevind word, is onder andere misdaadtendense soos in Afkop (2016) deur Fanie Viljoen. Jan Vermeulen belig onder andere in sy verhale politieke geweld en die Waarheid-en-versoeningskommissie in Geraamtes dra nie klere nie (2000). Weggooikinders, rassepolitiek en bendegeweld is temas in Anoeschka von Meck se Vaselinetjie (ook verfilm). ’n Ongewone tema wat in die bekroonde Lien se lankstaanskoene (2008) deur Derick van der Walt na vore kom, is ’n jeugdige wat op ’n straathoek moet bedel om haarself en haar broer te onderhou, aangesien hulle ouers fisiek en geestelik afwesig vir hulle twee kinders is. 

Soos in die geval van die anoreksietema in Nederlandse jeugverhale, is onder andere gewigsverlies ’n tema in die Afrikaanse jeugverhaal Die vierletterwoord (2013) deur Nelia Engelbrecht. Bambaduze deur Derick van der Walt (2015) handel ook oor kompulsief-obessiewe gedrag van die hoofkarakter in die vorm van motordiefstal om die verlies van ’n broer en die swak verhouding met ’n vader te versag. Boeliegedrag, ’n verskynsel wat toenemend in Suid-Afrikaanse skole toeneem, kom onder die loep in Annelie Ferreira se Chuck Norris kan deel deur nul (2014).

Wat vernuwing in Afrikaanse jeugverhale betref, gebruik die internasionaal bekroonde Jaco Jacobs kreatiewe tipografie soos krabbels, foto’s, handgeskrewe hoofstuktitels, verskillende lettertipes en kleur in paratekste wat die indruk van ’n dagboek/werkboek skep, byvoorbeeld Suurlemoen! (2007). By die gewilde Thomas@-jeugreeks deur Carina Diedericks-Hugo tree vernuwing in, aangesien sy haar lesers meer by die reeks betrek deur interaktiewe rekenaarspeletjies, internetkletskamers en -dialoog in te span. Jeugverhale uit hierdie skrywer se pen is ook as e-boeke beskikbaar. Diedericks-Hugo se jeugverhale sluit verder multikulturaliteit en feminisme in gemaklike hedendaagse tienertaal in.

Internasionalisering en ander media as net die klassieke boek het die literêre landskap van jeugdiges dramaties verander. In die 21ste eeu is fantasieë wêreldwyd oorweldigend in jeugverhale teenwoordig. Die jeug wat nie baie lees nie, word tans in hierdie tydperk deur die verfilming van jeugreekse soos Harry Potter, Geronimo Stilton en The hunger games bereik (Parleviet 2014:149).

Daar is ’n parallel tussen die Hoe overleef ik-reeks deur Francine Oomen en die sterk meisiekarakters wat in die middel van die negentigerjare in Amerika ontstaan het. Aan die begin van die 21ste eeu was boeke vir meisies in Nederland ’n nuwe neiging. Ondernemende en selfgeldende meisiekarakters wat hulle vrymoedig oor omstrede kwessies uitspreek, kom nou in jeugverhale voor. Die MZZL meiden-reeks deur Marion van Coolwijk, asook die Hoe overleef ik-reeks is daardeur beïnvloed. Hierdie karaktergebonde reekse het volgens Van Hoven (2011:105–13) egter nie literêre kwaliteit getoon nie.

Nederlandse jeugboeke wat by die tydgees aansluit en omstrede kwessies soos seksuele identiteit, genadedood, teistering op sosiale media en vlugtelingkwessies insluit, verskyn tans. Religie keer terug, aangesien jeugverhale oor geloof geskryf word (Dane en Ghesquière 2014:83). Jeugdiges neem in jeugverhale kennis van verskillende waardesisteme – sowel uit die Christendom as die Islamitiese tradisie en in ’n mindere mate uit ander geloofsoortuigings (Hendriks 2018:53). Anders as voorheen word omstrede kwessies hoofsaaklik filosofies benader en is die hooffokus nie geloofsopvoeding nie (Dane en Ghesquière 2014:83).

Suid-Afrikaners wat uit die buiteland terugkeer na Suid-Afrika, is in hierdie dekade aktueel en relevant en Anzil Kulsen se ’n Hart vol sand (2015) handel oor ’n tiener van gemengde afkoms en aanpassings. Sosiale netwerke word as een tema in Die vierletterwoord (2013) deur Nelia Engelbrecht aangewend, terwyl skoolskorsing en ’n uitsiglose toekoms in Annelie Ferreira se Tot siens, koning Arthur (2012) betrek word. Onlangse omstrede temas wat hedendaags meer na vore kom, is mensehandel, onder andere in Sweepslag (2019) deur Annerle Barnard en verdwyning van jeugdiges in Toring van Jasmyn (2019) deur Derick van der Walt. 

’n Afrikaanse jeugverhaal wat ’n vernuwende wegbreek van bogenoemde realistiese jeugverhale toon, is Stormkind (2018) deur Riana Scheepers. In hierdie verhaal word op inheemse en historiese gegewens, asook magiese realisme gefokus.

Die bogenoemde stem ooreen met Van der Westhuizen (2016) se mening dat jeugverhale se temas wêreldwyd ooreenkomste toon. Alhoewel die eerste ontwikkelingsfase van Nederlandse en Afrikaanse jeugverhale nie gedurende dieselfde tyd plaasgevind het nie, stem die tweede tot vierde ontwikkelingsfases ooreen. 

Die temas wat in Nederlandse en Afrikaanse jeugverhale voorkom, toon ook tydruimtelike ooreenkomste, aangesien dieselfde temas in albei tale se jeugverhale waarneembaar is. Enkele verskille ten opsigte van omstrede temas is dat genadedood nie in Afrikaanse jeugverhale te vinde is nie, omdat genadedood of selfdood met bystand nie in Suid-Afrika gewettig is nie. Temas wat aanvanklik as omstrede beskou is (en selfs in Suid-Afrika, soos onder andere gemengde verhoudings wat deur sensuurwette verbied is), is die afgelope paar dekades om ’n verskeidenheid redes in albei tale se jeugverhale sonder huiwering as temas aangewend. Heelwat van hierdie omstrede jeugverhale is bekroon, wat daarop dui dat die samelewing sowel as jeuglesers in hierdie bepaalde tydruimte nie van omstrede kwessies wegskram nie.

Uit die bostaande bespreking wil dit voorkom asof Afrikaanse jeugverhale tans in Suid-Afrika gelees word en dat dit goed verkoop, terwyl dit nie in Nederland die geval is nie.

4.4.3 Nuutste neigings in en vooruitskouings van Nederlandse en Afrikaanse jeugverhale

Die nuutste neigings ten opsigte van Afrikaanse jeugverhale is dat:

  • publikasies nie meer deur die staat ondersteun word nie (behalwe voorgeskrewe werke)
  • talle skoolbiblioteke na 1994 in Suid-Afrika gesluit is
  • min navorsing oor Afrikaanse jeugliteratuur onderneem word
  • die ANC-taalbeleid Engels as voorkeurtaal in Suid-Afrika bevorder
    (Hart 2002:29; Kannemeyer 2005:543–51, 563; Venter 2006:3–4; Oosthuizen 2010:58).

Die opbloei van Afrikaanse jeugverhale gedurende die eerste twee dekades van die nuwe millennium in Suid-Afrika kan toegeskryf word aan:

  • sosiopolitieke veranderinge in Suid-Afrika
  • ’n nuwe evalueringsbenadering volgens die Nederlandse “Kinderjury”-model
  • die wegdoen van sensuur, morele lesse en gewetenswroeging in Afrikaanse jeugverhale
  • die goeie kwaliteit van jeugboeke
  • die leerdergesentreerde letterkunde-onderrig-benadering
  • die polisistemiese benadering wat samewerking in alle fasette (produksie, verspreiding, mediëring en resepsie) van jeugboeke behels
  • die bemarking van jeugboeke en die teenwoordigheid van die skrywers daarvan by skole
  • jeugverhaalskrywers wat hulle van internasionale neigings vergewis (Van der Walt 1992:24–6; Verwey 1992:24–6; Diedericks-Hugo 2008; Oosthuizen 2010:63). 

Daarteenoor blyk die teenoorgestelde in Nederland die geval te wees. Verskeie tydskrifte oor jeugliteratuur bestaan nie meer nie (De Jong 2012). Alhoewel vele leesbevorderingsinisiatiewe in Nederland bestaan, soos onder ander jeugdiges wat jeugliteratuur beoordeel, leesuitdagingsprojekte waaraan bekende Nederlanders deelneem en multimediaprogramme, bly lees vir die meeste jeugdiges slegs ’n skoolverpligting (Kamp e.a. 2019:118–20, 130–3). Ondanks die uitstekende aanbod van jeugliteratuur word min gelees en word die relevansie van jeugliteratuur nie bespreek nie. Ghesquière e.a. (2014:55) bespiegel of jeugliteratuur nog met ander media kan meeding en of jeugdiges nog tyd het om te lees. Vergelykende navorsing toon dat hierdie bespiegelinge van genoemde skrywers wel kommerwekkend is, aangesien leesgenot heeltemal afwesig by Nederlandse jeugdiges is (Gubbels, Van Langen, Maassen en Meelissen 2019:34). Die Ministerie van Onderwys het daarom besluit om ’n leesveldtog van stapel te stuur om leesmotivering en -genot te stimuleer. Hierdie veldtog moet middel 2020 gereed wees (VO-raad 2019). In Suid-Afrika bestaan daar soortgelyke strategieë en veldtogte, soos die National Reading Strategy (DBO 2008) en die Read to Lead-veldtog (DBO 2014). 

Temas wat steeds in die nuwe millennium in Afrikaanse jeugverhale gewild bly, is avontuurverhale wat in ’n Suid-Afrikaanse verband afspeel; gesins- en vriendskapsverhoudings tussen verskillende groepe; interaksie met die natuur; en die Suid-Afrikaanse inklusiwiteit, diversiteit en interkulturaliteit (onder andere die wegbeweeg van die tradisionele Westerse kanon) (Jacobs 2008; Du Plessis 2008); verhale waarin volgehoue hoop voorkom en die wens vir ’n vreedsame lewe en lewenswyse verwoord word. Verdere volgehoue neigings is verhale waarin mooi eienskappe soos lojaliteit, respek en dapperheid sterk na vore kom (Van der Westhuizen (2016:418–20).

In Suid-Afrika is daar skrywers, onder andere Nelia Engelbrecht en Theresa van Baalen, wat fantasieverhale in Afrikaans skryf, terwyl in Nederland baie vertaalde fantasiereekse bemark word, soos die grafiese romans van Andy Griffiths en Ted Denton (Kamp e.a. 2019:66). Heelwat vertaalde werke binne die klassieke verhalende prosa verskyn, soos dié van die uiters invloedryke skrywer John Green (Van Hoven en Van Lierop-Debrauwer 2014:398). Die jeugroman Een weeffout in onze sterren (2012), ’n vertaling van Green se The fault in our stars, was buitengewoon gewild, veral ook as gevolg van die verfilming daarvan. 

Die 21ste-eeuse globalisering en elektroniese tegnologie bied massas ongefiltreerde inligting aan die jeug en hierdie neigings word duidelik in Afrikaanse jeugverhale weerspieël. Tegnologie vorm daarom toenemend belangrike temas in jeugverhale; dit word in intriges betrek; taalgebruik spreek daarvan en dit speel selfs ’n rol in karakterbeelding. Dit is in Afrikaanse én Nederlandse jeugboeke die geval (Lammes 2014:487–8; Van der Westhuizen 2016:418).

Wat die aanwending van tegnologie in Afrikaanse jeugverhale betref, lewer Suid-Afrikaanse uitgewers belangrike bydraes tot vernuwing en die bevordering van jeugverhale: Jeugverhale word as e-boeke beskikbaar gestel; QR-kodes word aangewend om onder andere e-speletjies te speel wat op jeugboeke betrekking het (byvoorbeeld Thomas@rock.ster.net deur Carina Diedericks-Hugo, 2013). Interaktiewe jeugromans kan gratis op selfone en op Facebook afgelaai word, soos verhale van Jaco Jacobs en Fanie Viljoen. Verdere 21ste-eeuse tegnologiese neigings is iPad-toepassings, aanlyn dagboeke van jeugverhaalskrywers en selfs Facebook-bladsye van karakters in jeugboeke wat gevolg kan word, onder andere die verhale van Martie Preller, Fanie Viljoen en Jaco Jacobs (Van der Westhuizen 2016:418).

In Nederland blyk dieselfde tendense, soos e-boeke, oudioboeke, asook speletjies en toepassings oor die jeugverhale (Kamp e.a. 2019:80). Lammes (2014) merk op dat verskeie skrywers, soos Nic Balthazar, Ans Wiechmann en Rob Visser, elemente van speletjies invoeg. Soms raak die fantasiewêreld van ’n speletjie sodanig geïntegreerd in die lewe van die protagonis dat die grens tussen fiksie en werklikheid verdwyn (Lammes 2014:487–8). 

Snyman (2006:145–79) toon in ’n ondersoek dat die Afrikaanse jeug minder lees, maar Greyling (2007:144–61) voorspel dat die elektroniese era (binne die postmodernistiese literêre neigings) jeugverhale steeds meer gaan beïnvloed in ’n multimedia-omgewing. Greyling voorspel eerstens dat die digitale era tot die vermenging van genres en kodes aanleiding gee met die gevolg dat grense vervaag. Sy voorspel tweedens dat die 21ste-eeuse jeugverhale toenemende visuele stimulasie, veelstemmigheid en hibridisering gaan insluit. 

Visuele stimulasie en hibridisering het bekende verskynsels in Nederlandse jeugliteratuur geword. Die toename in die gebruik van visuele beelde dra daartoe by dat prenteboeke ’n genre vir alle ouderdomme geword het (Beckett 2012; Kamp e.a. 2019:89). Marit Törnqvist het dit duidelik bewys met Wat niemand had verwacht in 2009 (De Jong 2010:73).

Nederlandse jeugverhaalskrywers fokus na 2000 op niefiksie (Ghonem-Woets 2014:199). Annet Huizing skryf ’n insiggewende boek oor die Nederlandse regstaat, De zweetvoetenman (2017), wat uitstekend ontvang is. Bibi Dumon Tak oorskry genres met Laat een boodschap achter in het zand (2018), aangesien sy niefiksie in poësievorm omskep. Op humoristiese wyse verwys sy na gewilde televisieprogramme en klassieke Nederlandse jeugliteratuur. Die oorspronklike en betekenisvolle illustrasies deur Annemarie van Haeringen versterk die teks (Kamp e.a. 67–8). Hopelik sal daar in die toekoms vir hierdie veelstemmige literatuur ’n groter leserspubliek wees. 

Dit kan vir voornemende taalonderwysers waardetoevoegend wees om te weet dat:

  • daar nie voor die 1950’s spesifiek vir die jeug literatuur geskryf is nie en dat daar van die jeug verwag is om volwasseneliteratuur te lees waarvoor hulle nie ontvanklik was nie
  • jeugverhale wat later wel verskyn het, uit konvensionele, moralistiese verhale met sedelesse en ’n sterk religieuse trant bestaan het
  • jeugverhale aanvanklik nie vir die genot van die lesers geskryf is nie, maar om op te voed en dat kwantiteit toe belangriker as kwaliteit was
  • jeugverhale nie noodwendig die realiteite van die sosiopolitieke milieu weerspieël het nie en in baie gevalle idealisties en idillies van aard was
  • Afrikaanse jeugverhale onderhewig was aan sensuurwette wat skrywersvryheid aan bande gelê het en sekere temas as gevolg van die toepassing van die angsteorie in jeugverhale vermy moes word
  • jeugverhale deur verskillende tydgleuwe waarin sosiopolitieke faktore ’n rol gespeel het, beïnvloed is
  • sekere skrywers en sekere verhale in bepaalde tydgleuwe van belang geag word
  • Afrikaanse jeugverhale eers teen die laaste dekades van die vorige eeu werklik tot hulle reg gekom het, aangesien dit vir die jeug geskryf is, sosiopolitieke werklikhede betrek het, gewaag het om kwessies wat deur sommige groeperinge as omstrede beskou is, in te sluit en die katarsisteorie toe te pas.

 

5. Riglyne vir die mediëring van omstrede kwessies in jeugverhale

In verskillende onderwysomgewings behoort leerders toegerus te word om morele keuses uit te oefen ter bevordering van naasteliefde en goeie konflikhantering en om eenheid in verskeidenheid na te streef. In die onderrig van omstrede jeugverhale behoort ’n klem op goeie kommunikasie, soos onderhandelings- en konflikhanteringsvaardighede, deel van alle skoolkurrikula te vorm. 

Volgens Cart (2008:1–4) bied jeugverhale eerstens vir die jeugdige die geleentheid om te weet hy is deel van ’n groter gemeenskap. Tweedens konfronteer jeugverhale jeugdige lesers met die probleme van die volwassenewêreld. Derdens bemagtig dit jeugdiges om rolmodelle te vind, om sin te maak van die werklikheid waarin hy verkeer, om ’n persoonlike lewensfilosofie te ontwikkel, om tussen reg en verkeerd te onderskei en om ’n verantwoordelikheidsin te kweek. Short e.a. (2015:8–9) stem saam dat jeugverhale sosiale en emosionele voordele vir jeugdige lesers inhou, onder andere ontvlugting van die harde werklikheid en persoonlike probleme, kritiese oorwegings en om uiteindelik eie morele waardes te vestig. Coats (2011:315) reken dat jeugverhale die jeugdige se denkpatrone, uitdrukkingswyses, asook moraliteit beïnvloed. Uit bogenoemde uitsprake kan afgelei word hoe belangrik dit is om ook jeugverhale van omstrede aard vir jeugdiges voor te skryf.

Alhoewel die historiografiese beskrywing van omstrede jeugverhale vir die voornemende Nederlandse en Afrikaanse taalonderwyser nuttige en verrykende agtergrondkennis bied, het uit die ondersoek ook praktiese riglyne vir die mediëring van omstrede kwessies in jeugverhale vir die voornemende sowel as praktiserende taalonderwyser uitgekristalliseer. Dit hou verband met die samewerkingsooreenkoms tussen die Nederlandse Taalunie en die Afrikaanse Taalraad wat op 30 Januarie 2020 gesluit is om, waar moontlik, vergelykbare aktiwiteite en inisiatiewe aan beide kante op mekaar af te stem, kommunikasie te verbeter, en hulpbronne, kundigheid en ervaring beskikbaar te stel en te deel (Bennis en Steenkamp 2020). 

Taalonderwysers bevind hulle wêreldwyd in verskillende onderwyskontekste wat toenemend multikulturaliteit insluit. Hierdie aspek verg volgens die Handves vir Menseregte (DBO 2006:5) begrip van maatskaplike, filosofiese, psigologiese, historiese en politieke kennis van die beginsels, waardes en oortuigings van die vernaamste kulture en religieë in ’n bepaalde onderwyskonteks. Taalonderwysers behoort daarom, in die onderrig van jeugverhale waarin omstrede kwessies voorkom, ’n respekvolle, etiese houding en demokratiese verantwoordelikheid teenoor leerders te toon (Steyn, 2005:17).

Teen die agtergrond van hierdie ondersoek wat Nederlandse en Afrikaanse jeugverhale met omstrede kwessies as inhoud insluit, word vervolgens algemene riglyne vir die mediëring daarvan vir die taalonderwyser aangebied.

In die keuse van jeugverhale waarin omstrede kwessies voorkom, moet die taalonderwyser daarteen waak om net jeugverhale sonder omstrede kwessies te bespreek omdat dit ’n “veiliger” keuse is. In die werklikheid word jeuglesers aan omstrede aangeleenthede blootgestel en gaan hulle verhale waarin omstrede kwessies voorkom, moontlik selfstandig lees (vergelyk Opsomming).

Dit is belangrik om die skoolbestuurspan, onderwysers en ouers/voogde in te lig oor moontlike omstrede onderwerpe wat in jeugverhale in die taalklaskamer bespreek kan word. Moedig in hierdie verband ouers/voogde aan om gesprekke met hulle kinders oor die betrokke omstrede onderwerpe wat in jeugverhale voorkom te voer.

Die waardes van die portuurgroep en dié van die ouerhuis kan verskil en die leerders in die jeugdige fase is besig met identiteits- en etiese ontwikkeling wat hulle moraliteitsontwikkeling beïnvloed (Kroon 2014:20; Boom en Olthof 1994:45). Die taalonderwyser moet deeglik bewus daarvan wees dat in ’n uiteenlopende samelewing, en derhalwe in ’n klas waarin sosiokulturele verskeidenheid voorkom, leerders se begrip van moraliteit van persoon tot persoon sal verskil. Die taalonderwyser behoort begrip en integriteit daarvoor te toon en insig daarin te bewys om sodoende ook ’n morele voorbeeld aan die leerders te stel.

Schram en Hakemulder (1994), Hakemulder (2000) en Van den Bossche en Klomberg 2020) stel voor dat jeuglesers die geleentheid gegun behoort te word om volgens teksgerigte gesprekke in die klaskamer insig in karakters en die gevolge van hulle handelinge te verwerf. Die taalonderwyser behoort eerstens die teks en karakters (hulle konflik, hulle standpunte, hulle reaksies op morele kwessies en die gevolge daarvan) te bespreek. Tweedens kom leerders se eie oordeel oor reg en verkeerd ter sprake, asook hulle empatie, al dan nie, met ’n karakter se standpunte en optrede. In die derde plek kan die leerders aan die hand van hierdie lesergerigte benadering hulle eie menings verskaf. 

Omstrede kwessies in jeugverhale behoort moedig in ’n ondersteunende en beheerde klaskameromgewing, waarin leerders veilig en geborge voel, aangepak te word. Die taalonderwyser moet sorg vir vrymoedige gesprekke en ’n bereidwilligheid by leerders skep om op ’n respekvolle en empatiese wyse sonder vooroordele na mekaar te luister. Binne hierdie omgewing behoort leerders sonder oordeel aan sensitiewe gesprekke en begeleide groepbesprekings wat op hulle van toepassing is, te kan deelneem.

Die taalonderwyser word sterk aangeraai om sy/haar literatuuronderrigvaardighede om jeugverhale met omstrede kwessies in die klas te medieer, te verbeter. Die Suid-Afrikaanse KABV (DBO 2011:12) stel as onderrigbenadering tot letterkunde voor dat die onderwyser soveel as moontlik van die voorgeskrewe teks, sonder enige onderbreking van ander aktiwiteite, in die klas behoort te lees. Hierdie begeleide lees van voorgeskrewe werke, veral ook as die verhale omstrede kwessies bevat, sal eerstens help dat die leerders die elementêre betekenisvlak van die teks verstaan, en tweedens skep dit vir die taalonderwyser die geleentheid om genoemde kwessies te medieer. Sommige leerders sal hierdie tipe tekste sonder enige ondersteuning kan lees; die onderwyser moet hierdie selfgerigte lees sterk aanmoedig. Wanneer sukkelende lesers egter met die korrekte leesstrategieë toegerus word, kan hulle moontlik later ook hierdie verhale selfgerig lees (vergelyk Opsomming en paragraaf 1). Deur oorsake, gevolge en moontlike oplossings vir die kwessies (onder andere eetversteurings, selfdood, selfskending, molestering en verkragting) te bespreek, kan daar van begeleide lees na selfgerigte lees beweeg word. Op hierdie wyse kan die jeugdige kreatief, krities en probleemoplossend ingestel word.

Jeugdige lesers kan bemagtig word met leesvaardighede soos leidrade, kontekstuele merkers en leesstrategieë om betekenis en die boodskap uit ’n jeugverhaal van omstrede aard af te lei. Leidrade waarmee ’n verhaal ontsluit kan word, sluit volgens Burger (2018) onder andere die titel, motto’s/epigrawe, proloog, openingsinne, karakterisering, slotsinne en die strukturering van die verhaal in. Burger (2018) is voorts van mening dat ’n skrywer beïnvloed word deur die konteks waarbinne hy/sy leef. Verder kan leesstrategieë jeugdiges help om selfgerigte, kritiese lesers te word sonder dat bepaalde moraliteit afgedwing word. Leesstrategieë wat in die KABV (DBO 2011) voorgeskryf word om betekenis uit ’n teks te konstrueer, is onder andere vlug- en soeklees, aktivering van leerders se vorige kennis (byvoorbeeld oor ’n bepaalde omstrede kwessie), voorspelling, visualisering, vraagstelling, afleidings, die identifisering van hoof- en ondersteunende gedagtes, opsomming, sintesevorming, monitering van begrip en evaluering. Alhoewel praktiserende taalonderwysers onder groot werksdruk as gevolg van ’n oorbelaaide kurrikulum verkeer, is ’n moontlikheid om as vakgroep ’n skedule uit te werk oor watter leidrade, kontekstuele merkers en leesstrategieë in watter graad ontwikkel kan word om omstrede kwessies in stygende volgorde van moeilikheidsgraad van graad 8 tot 12 te medieer.

Tydens die klasbespreking van omstrede kwessies in jeugverhale kan leerders se voorkennis aangaande hierdie kwessies eerstens op ’n sensitiewe wyse geaktiveer word, byvoorbeeld deur ’n gesprek oor onder andere egskeiding of alkoholmisbruik te ontlok. Tweedens behoort die leerders se emosionele welsyn voortdurend geëvalueer te word, aangesien daar moontlik leerders kan wees wat hulle in gebroke huisgesinne bevind of wie se ouer(s) alkoholafhanklik kan wees. In die mediëring van omstrede kwessies in jeugverhale kan leerders moontlik wisselende emosionele gemoedstoestande beleef, aangesien dit persoonlik tot hulle kan spreek. Daarom moet die onderwyser teen die uitsondering van leerders wat self met hierdie omstrede kwessies worstel, waak. Sosiale omgang, respek en aanvaarding van binne en buite die portuurgroep is vir die jeugdige belangrik. 

Die taalonderwyser moet te alle tye etiese riglyne in die klaskamer handhaaf wanneer omstrede kwessies in jeugverhale met jeuglesers bespreek word, aangesien dit in multikulturele klasgroepe sensitief van aard kan wees en tot verleentheid aanleiding kan gee. Begeleiding in die oorweging van etiese en morele vraagstukke sonder om enige sedelesse te leer, behoort verskaf te word.

In die mediëring van omstrede jeugverhale is die rol van die taalonderwyser as navorser ook belangrik. Deeglike navorsing oor verskillende uitgangspunte ten opsigte van die omstrede kwessies is noodsaaklik vir die sinvolle hantering daarvan, byvoorbeeld deur leerders navorsing te laat doen oor die verskillende sieninge aangaande onder andere genadedood of die beëindiging van ’n swangerskap.

Dit is van belang dat die taalonderwyser objektief bly en hom/haar van eie menings weerhou. Onderwysers kan hulle moontlik daaraan skuldig maak dat hulle aan bepaalde uitgangspunte en oortuigings voorkeur gee en dit onbewustelik aan leerders as implisiete kurrikulum oordra.

Dit is ’n goeie wenk om terugvoer oor omstrede leesstof mondelings, skriftelik en selfs anoniem te hanteer en leerders aan te moedig om onduidelikhede en vrae rakende die omstrede kwessies neer te skryf. Dit kan in ’n algemene klasgesprek aangeraak word sonder om die vertroue tussen onderwyser en leerder te skend. Leerders behoort toegelaat te word om hulle eie menings vrymoedig te motiveer; dit kan in begeleide klasbesprekings, groepe of pare geskied. Die taalonderwyser moet in ag neem dat jeugdiges se abstrakte denkvermoë hulle in staat sal stel om nou meer krities te begin redeneer oor sake wat hulle vroeër bloot net aanvaar het. Die taalklas waarin leerders toegelaat word om in ’n geborge atmosfeer krities oor omstrede kwessies te dink en te redeneer, bied ’n ruimte waarin moraliteit ontwikkel kan word.

 

6. Slotopmerkings 

Binne ’n veilige taalklasomgewing behoort die taalonderwyser nie te huiwer om omstrede kwessies binne jeugliteratuur te medieer nie, aangesien hierdie kwessies wêreldwyd toenemend in jeugliteratuur voorkom en jeugdige lesers onvermydelik daaraan blootgestel word. Die belangrike rol van die taalonderwyser as medieerder kan ’n dieper omvang aan die onderwys verleen, aangesien jeugdige lesers voorberei word om beter en meer meelewende burgers in ’n diverse samelewing te wees.

 

Bibliografie

Anker, J. 2011. Fanie Viljoen se Onderwêreld as voorbeeld van magstryd in die jeugroman. LitNet Akademies, 8(3).

Ankersmit, F. 2008. Historiography. In Herman, Jahn en Ryan (reds.) 2008. 

Bakker, N., J. Noordman en M. Rietveld-van Wingerden. 2010. Vijf eeuwen opvoeden in Nederland. Idee en praktijk 1500–2000. Assen: Van Gorcum.

Baudoin, T. 1983. Het probleem van het probleemboek. Over de moeizame pubertijd van de jeugdliteratuur. Bzzlletin, 107:26–32.

Beckett, S.L. 2012. Crossover picture books. A genre for all ages. Londen: Taylor & Amp; Francis Ltd. 

Beers, G.K. 2003. When kids can’t read: What teachers can do. Portsmouth, NH: Heinemann. 

Bennis, H. en C. Steenkamp. 2020. Taalunie en Afrikaanse Taalraad onderteken ooreenkoms om Nederlands en Afrikaans te bevorder. https://www.afrikaansetaalraad.co.za/taalunie-en-afrikaanse-taalraad-onderteken-ooreenkoms-om-nederlands-en-afrikaans-te-bevorder (18 Junie 2020 geraadpleeg).

Berliner, D.C. en R.C. Calfee (reds.). 1996. Handbook of educational psychology. New York: Macmillan.

Bertens, T. (red.). 2003. Recht en religie. Nijmegen: Ars Aequi.

Beukes M. 2005. Franci Phillips. In Wybenga en Snyman (reds.). 2005.

Bohart, A.C. 1980. Toward a cognitive theory of catharsis. Psychotherapy Theory Research and Practice, 17(2):192–201. 

Boom, J. en T. Olthof. 1994. Kohlbergs theorie over de ontogenese van rechtvaardigheidsoordelen. In Brugman en Olthof 1994.

Boonstra, B. 1993. Een dier denkt wat af. Literatuur zonder leeftijd, 28(7):23–8. 

—. 1999. Zo goed als klassiek. De 100 mooiste jeugdboeken van de laatste 50 jaar volgens Bregje Boonstra. Amsterdam: Zirkoon. 

Boshoff, W.J. 2011. ’n Ondersoek na ’n gemeenskapsgebaseerde kurrikulum om die indiensneembaarheid van matrikulante te verhoog. PhD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Botha, M.E. 2007. Metaphor and its moorings. Bern: Peter Lang.

Bourke, V.J. 1968. History of ethics. New York: Doubleday.

Brugman, D. en T. Olthof. 1994. Het ontstaan van moreel besef. Cognitie, emotie en gedrag. Lisse: Swets en Zeitlinger B.V.

Burger, W. 2018. Die wêreld van die storie. Pretoria: Van Schaik Uitgewers. 

Cart, M. 2008. The value of young adult literature. Adopted by YALSA’s (Young Adult Library Services Association) Board of Directors. http://www.ala.org/yalsa/guidelines/whitepapers/yalit (11 April 2019 geraadpleeg).

Cense, M. en E. Dalmijn. 2016. In één klap volwassen: Over tienerzwangerschap. Utrecht: Rutgers. 

Cliteur, P.B., A.T. van Deursen, C.J. Klop, G.G. de Kruijf en B. van Stokkom. 1996. Cultuur, politiek en christelijke traditie. Nijkerk: Callenbach.

Cloete, T.T. (red.). 1992. Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM-Literêr.

Coats, K. 2011. Young adult literature. In Wolf, Coats, Enciso en Jenkins (reds.) 2011. 

Collins, C.J. 1996. Finding the way: Morality and young adult literature. In Vandegrift (red.) 1996. 

Dane, J. en R. Ghesquière. 2014. Waar is God gebleven? Filosofische en religieuze kinderliteratuur. In Ghesquière, Joosen en Van Lierop-Debrauwer (reds.) 2014.

Dasberg, L. 1975. Grootbrengen door kleinhouden als historisch verschijnsel. Meppel: Boom.

DBO (Departement van Basiese Onderwys). 2006. Handves van Menseregte. Pretoria: Staatsdrukkery.

—. 2008. National Reading Strategy. Pretoria: Staatsdrukkery.

—. 2011. Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring. Pretoria: Staatsdrukkery.

—. 2014. Read to Lead Campaign. Pretoria: Staatsdrukkery. 

De Bruin, J. 2005. Multicultureel drama? Populair Nederlands televisiedrama, jeugd en etniciteit. Amsterdam: Otto Cramwinkel.

De Jong, J. 2010. Gezien worden doet opleven. Liter, 13(60):72–3.

—. 2012. Teloorgang van het tijdschrift over jeugdliteratuur. Reformatorisch Dagblad, 13 Desember.

De Jong, M. en H. Nelis. 2018. Help. Onze school is gekleurd! De toekomst van Nederland begint in het onderwijs. Amsterdam: Nijgh en Van Ditmar.

De Jong, M. en J. Onstenk. 2019. De school als leefwereld: Diversiteit en inclusie. In Hermes, Van Goor en De Jong 2019.

De Kruijff, G.G. 1996. Naar een seculiere verbondsvernieuwing. In Cliteur, Van Deursen, Klop, De Kruijf en Van Stokkom (reds.) 1996.

De Sterck, M. 1997. Een vaste stek? De adolescentenroman tussen Nijntje en Nabokov. In Van Lierop-Debrauwer, Peters en De Vries (reds.) 1997.

De Villiers, D.E. 1999. Die NG Kerk en die oorgang na ’n nuwe Suid-Afrika. Skrif en Kerk, 20(1):15–38.

De Vries, A. 1989. Wat heten goede kinderboeken? Opvattingen over kinderliteratuur in Nederland sinds 1880. Amsterdam: Querido.

—. 1990. Het verdwijnende kinderboek. Opvattingen over jeugdliteratuur na 1980. Leesgoed, 17(2):64–68.

DiCicco, M. en P. Taylor-Greathouse. 2014. The moral of the story: Young adult authors speak on morality, obligation, and age appropriateness. English Journal, 103(5):75–80.

Diedericks-Hugo 2008. Gesprek met Carina Diedericks-Hugo op 28 Mei 2008 op Stellenbosch. Ongepubliseerde onderhoud.

Dieleman, A. 2019. Een brede blik op jongeren. In Hermes, Van Goor en De Jong (2019).

Dirksen J. 1999. Morrelen aan de moraal – over literatuuronderwijs en ethiek. Tsjip/Letteren, 9(1):19–23.

Dodge, B., T.G. Sandfort, W.L. Yarber en J. de Wit. 2005. Sexual health among male college students in the United States and the Netherlands. American Journal of Health Behavior, 29(2):172–82.

Donelson, K.L. en A.P. Nilsen. 1980. Literature for today’s young adults. Arizona: Pearson. 

Du Plessis, E. 2017. Die essensie van morele waardes in die konteks van ’n parallelmediumskool. Tydskrif vir Christelike Wetenskap, 1ste kwartaal, ble. 175–97.

Du Plessis, E. en P. Marais. 2017. Versoening tussen leerders: Is parallelmediumskole die antwoord op die rassismeprobleem? Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(2):614–26.

Du Plessis, M. 2008. E-pos-korrespondensie met Miemie du Plessis. Ongepubliseerde kommunikasie. 

e.CKE. 2013. Elektroniese Christelike kernensiklopedie. http://cke.christians.co.za/gereformeerde-ekumeniese-raad-ger (9 Maart 2020 geraadpleeg).

Eiselin, J. 2002. Tonke Dragt. In Van Delft, Storm en Vermeulen (reds.) 2002. 

Fokkema, D. 1995. Why literary historiography? http://www.cervantesvirtual.com/descargaPdf/why-literary-historiography-0 (11 Mei 2020 geraadpleeg). 

Fokkema, D. en H. Bertens (reds.). 1997. International Postmoderism. Theory and Literary Practice. Amsterdam: John Benjamins Publishing Company.

Fritz, M.J. en E.S. van der Westhuizen. 2010. Omstrede kwessies en teksinterne korrektiewe in Skilpoppe van Barrie Hough. Literator, 31(2):163–82.

Gerrits, E. 2019. Het succes van Queerboeken. Lezen, 14(2):26. 

Ghesquière, R. 2009. Het verschijnsel jeugdliteratuur. Leuven: Acco. 

Ghesquière R., V. Joosen en H. van Lierop-Debrauwer. 2014. Inleiding. Geschiedenis van de jeugdliteratuur in vogelvlucht. In Ghesquière, Joosen en Van Lierop-Debrauwer (reds.) 2014. 

Ghesquière R., V. Joosen en H. van Lierop-Debrauwer (reds.). 2014. Een land van waan en wijs. Geschiedenis van de Nederlandse jeugdliteratuur. Amsterdam, Antwerpen: Atlas Contact.

Ghonem-Woets, K. 2014. De wereld binnen handbereik. Informatieve jeugdliteratuur. In Ghesquière, Joosen en Van Lierop-Debrauwer (reds.) 2014.

Giliomee, H. en B. Mbenga. 2014. Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg. 

Goeman-Van Randen, W. 1973. Over gouden griffels en andere boeken. Leeuwarder courant, 27 Oktober, bl. 10.

Greyling, F. 2007. Die baie lewens van Balkie: tegnologie, kinderliteratuur, grense, hibridisering. Stilet, XIX(2):144–61.

Grimmith. 1973. What can I do in RE?. Great Wakering: Mayhew-McCrimmon. 

Groenendijk, L.F. en J. Steutel. 2004. Analytisch filosoferen over opvoeding en onderwijs. Amsterdam: SWP. 

Gubbels, J., A. van Langen, N. Maassen en M. Meelissen. 2019. Resultaten PISA-2018 in vogelvlucht. Enschede: Universiteit Twente.

Hakemulder F. 2000. The moral laboratory. Experiments examining the effects of reading literature on social perception and moral self-concept. Amsterdam: John Benjamins Publishing Co. 

Hart. G. 2002. The African Renaissance and children’s literature: Is South African libarianship abdicating its role? South African Journal of Library and Information Science 68(1):29–38.

HAT (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal). 2015. 6de uitgawe. Kaapstad: Pearson.

Hendriks, I. 2018. Kinderboeken als spiegel en moreel kompas. Over de morele functie van jeugdliteratuur. Literatuur Zonder Leeftijd, 32(105):46–60.

Henrard, K. 2001. The accommodation of religious diversity in South Africa against the background of the centrality of the equality principle in the new constitutional dispensation. Journal of African Law, 45(1):51–72.

Herman, D., M. Jahn en M. Ryan (reds.). 2008. Routledge encyclopedia of narrative theory. New York: Routledge.

Hermes, J., R. van Goor en M. de Jong. 2019. Leefwerelden van jongeren. Thuis, school, cultuur, digitale cultuur. Bussum: Coutinho.

Jacobs, J. 2008. E-pos-korrespondensie met Jaco Jacobs. Ongepubliseerde kommunikasie.

Jansen, T., F. Ruiter en J. Hakemulder. 1994. De lezer als burger. Over literatuur en ethiek. Kampen: Kok Agora.

Johnson, L.B. 1965. Commencement address at Howard University: “To fulfill these rights”. https://teachingamericanhistory.org/library/document/commencement-address-at-howard-university-to-fulfill-these-rights (9 Maart 2020 geraadpleeg).

Joosen, V. en K. Vloeberghs. 2008. Uitgelezen jeugdliteratuur. Ontmoetingen tussen traditie en vernieuwing. Leuven: Lannoo Campus.

Joubert, M.M. 2001. Die leesbelangstelling en leesgewoontes van Afrikaanssprekende tienderjariges in Pretoria. MInf-verhandeling, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria. 

Kamp, I., J. de Jong-Slagman en P. van Duijvenboden. 2019. Jeugdliteratuur en didactiek. Handboek voor vo en mbo. Bussum: Coutinho.

Kannemeyer, J.C. 2005. Die Afrikaanse literatuur 1952–2004. Kaapstad: Human & Rousseau. 

Kaplan, J.S. 2005. Young adult literature in the 21st century: Moving beyond traditional constraints and conventions. ALAN Review, 32(2):11–8. 

Kennedy, J. 2006. Nederland als het meest progressieve land ter wereld. In Van Noort en Wiche (reds.) 2006. 

Kester, J. 2019. Meerderheid voor afschaffen religieus onderwijs. https://eenvandaag.avrotros.nl/panels/opiniepanel/alle-uitslagen/item/meerderheid-voor-afschaffen-religieus-onderwijs (24 April 2019 geraadpleeg).

Kohlberg, L. 1958. Development of moral character and moral ideology. Chicago: Universiteit van Chicago.

Koster, D. 2012. Zwart op wit. De representatie van allochtonen in multiculturele jeugdliteratuur. Literatuur zonder leeftijd, 26(87):24–43.

Kripalani, K. (red.). 1958. All men are brothers: Life and thoughts of Mahatma Gandhi as told in his own words. https://unesdoc.unesco.org/ark:/48223/pf0000071082
(9 Maart 2019 geraadpleeg). 

Kroon, T. 2014. De morele intuïtie van kinderen. Respect en verantwoordelijkheid, vrijheid en geweten. Amsterdam: SWP.

Kruger, B.J. 2001. Die rol van die eie ouer in die hersaamgestelde gesin. PhD-proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika. http://uir.unisa.ac.za/bitstream/handle/10500/18467/thesis_kruger_bj.pdf?sequence=1&isAllowed=y (12 April 2019 geraadpleeg).

Kruger, J. 2013. Geen plek vir rassisme in ons samelewing. Sentrum vir Grondwetlike Regte. http://www.cfcr.org.za/index.php/afr/nuus/225-a-fair-ruling-balancing-the-rights-of-school-governing-bodies-and-heads-of-department (10 April 2019 geraadpleeg). 

Krüger, J.S. 2017. Die waarheidsweg Dhammapada. Durbanville: Aosis.

Lammes, S. 2014. Kinderspel in het digitale tijdperk. Games, apps en jeugdliteratuur. In Ghesquière, Joosen en Van Lierop-Debrauwer (reds.) 2014.

Langeveld, M.J. 1952. Maatschappelijke verwildering der jeugd. Rapport betreffende het onderzoek naar de geestesgesteldheid van de massajeugd, in opdracht van de Minister van Onderwijs, Kunsten en Wetenschappen samengesteld. ’s-Gravenhage: Staatsdrukkerij en Uitgeverij.

Lessing-Venter, N. en M. Snyman. 2017. Aspekte wat kinders se leesmotivering beïnvloed. LitNet Akademies, 14(3):866–95.

Linders. J. 2010. Words are just as powerful as imagination. The magic world of Tonke Dragt. The Low Countries, 18:186–93.

Literary terms. 2020. https://literaryterms.net/catharsis (11 Februarie 2020 geraadpleeg).

Lolkema, M. en A. Prins. 2005. Christelijke kinderboeken in beweging. Een overzicht (1995–2005). Zoetermeer: Mozaïek.

Louw, D.A. en A.E. Louw. 2014. Die ontwikkeling van die kind en jeugdige. 2de uitgawe. Bloemfontein: Psychology Publications.

Martinez, E. 2017. Moral development in teens. https://howtoadult.com/moral-development-teens-2429.html (18 September 2019 geraadpleeg). 

Mathys, K. 2005. Interview. Katrien Vloeberghs bestudeert literatuur voor kinderen en jongeren. De Standaard, 3 Maart. 

Mbudeshale, N. 2014. Don’t let conceit destroy this garden of diversity. Daily Despatch, 3 Maart, bl. 7.

Meier, C. en P. Marais. 2012. Education management in early childhood education. 2de uitgawe. Pretoria: Van Schaik. 

Micheels, P. 2017. Petie, Theodora (1923–2004). http://resources.huygens.knaw.nl/vrouwenlexicon/lemmata/data/Petie (9 Mei 2019 geraadpleeg).

Mooren, P., K. Ghonem-Woets, E. van Koeven, J. Kurvers en H. Verschuren. 2012. Verborgen talenten. Jeugdliteratuur op school. Bussum: Coutinho. 

Moral Compass Project. 2018. https://www.pthu.nl/actueel/nieuws/!/747/omvangrijke-subsidie-onderzoek-naar-fundamenten-van-de-moraal-moral-compass-project (3 Desember 2018 geraadpleeg).

Nederland. 2018. Grondwet voor het Koninkrijk der Nederlanden 2018. Den Haag: Ministerie van Binnenlandse Zaken en Koninkrijksrelaties.

Netwerk24. 2017. Misdaadstatistiek: Só lyk SA se moord- en verkragtingsituasie werklik. https://www.netwerk24.com/huisgenoot/Nuus/misdaadstatistiek-so-lyk-sa-se-moord-en-verkragtingsituasie-werklik-20170528 (10 April 2019 geraadpleeg).

OECD. 2018. PISA 2015: Results in focus. https://www.oecd.org/pisa/pisa-2015-results-in-focus.pdf (30 April 2020 geraadpleeg).

Oosthuizen, M.M. 2010. ’n Polisistemiese ondersoek na verandering in die Afrikaanse kinderliteratuur-sisteem sedert 1990. MA-verhandeling, Universiteit van Stellenbosch.

Parlevliet, S. 2014. Als het niet onwaar is, dan is het fantasie. Fantasieverhalen. In Ghesquière, Joosen en Van Lierop-Debrauwer (reds.) 2014. 

Paul, D.G. 2017. Beyond tolerance. Real world literacy teaching and learning for PreK-6. Lanham, MD: Rowman & Littlefield.

Peters, H., 1997. Ko Kruier op zoek naar zijn stadsgenoot Frits van Egters. Over jeugdliteraire geschiedschrijving. Literatuur zonder leeftijd, 11(43):423–38.

Philander, N.C. 2011. Enkele opmerkings oor die gestaltes en oorsake van die morele probleme in Suid-Afrika. Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 52(1):1–16.

Pondts, R., M. van Ham en G. Marlet. 2015. Verschillen, ongelijkheid en segregatie – literatuurstudie. Utrecht: Atlas voor gemeenten.

Pretorius, J. 2017. Misdaad in SA – kan dit hoegenaamd gestuit word? https://www.news24.com/SouthAfrica/Local/South-Coast-Fever/misdaad-in-sa-kan-dit-hoegenaamd-gestuit-word-20170312 (10 April 2019 geraadpleeg).

Raidt, E.H. 1991. Afrikaans en sy Europese verlede. Kaapstad: Nasou Beperk.

Rauch, J. 2005. Crime prevention and morality. The campaign for moral regeneration in South Africa. ISS Monograph Series. No. 14. Instituut vir Sekerheidstudies, Pretoria.

Richards, L.O. 1978. Youth ministry – its renewal in the local church. Grand Rapids, MI: Zondervan.

Ros, B. en S. de Jonckheere. 2004. Een geval apart. Meisjes- en jongensboeken. In Ghesquière, Joosen en Van Lierop-Debrauwer (reds.) 2014.

Roux, J.B. 2020. Skryf is ’n avontuur. Vrouekeur, Januarie:10–1. 

Safranski, R. 2005. Nietzsche. Een biografie van zijn denken. Amsterdam: Olympus.

Sanders, E. 2017. Levi’s eerste kerstfeest. Jeugdverhalen over jodenbekeringen 1792–2015. Nijmegen: Van Tilt.

Scheffer, P. 2000. Het multiculturele drama. NRC, 29 Januarie, bl. 1. 

Schmeets, H. 2016. De religieuze kaart van Nederland. Den Haag: Centraal Bureau voor de Statistiek. 

Schram, D. en J. Hakemulder. 1994. De ethische werking van verhalende fictie. In Jansen, Ruiter en Hakemulder (reds.) 1994.

Shavit, Z. 1986. Poetics of children’s literature. Athene en Londen: The University of Georgia Press. 

Short, K.G., C.M. Tomlinson, C. Lynch-Brown en H. Johnson. 2015. Essentials of young adult literature. 3de uitgawe. Boston: Pearson. 

Sijbers, R., S. Elfering, M. Lubbers, P. Scheepers en M. Wolbers. 2015. Maatschappelijke thema’s in de klas. Hoe moeilijk is dat? Nijmegen: Radbouduniversiteit.

Snyman, L. 1983. Die kind se literatuur. Durbanville: Die Kinderpers.

—. 2001. Die plek van die jeugreeksboek in die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde. Tydskrif vir Letterkunde, (39)1/2:46–59.

—. 2006. Die leesvoorkeure en leesgedrag van Afrikaanse kinders. Mousaion, (24)1:145–79.

Snyman, M. en M. du Plessis. 2008. Gesprek met Maritha Snyman en Miemie du Plessis op 10 Julie 2008 by Lapa in Pretoria. Ongepubliseerde onderhoud. 

Spiecker, B. 1984. Niveaus van moraliteit en de morele opvoeding. In Steutel (red.) 1984.

Stephens, J. 2007. Young adult: A book by any other name …: Defining the genre. ALAN Review, 35(1):34–42.

Steutel, J. 1984. Morele opvoeding. Theoretisch- en historisch-pedagogische opstellen. Meppel, Amsterdam: Boom.

Steyn, A.F., D. van Wyk en T. le Roux. 1987. Die gesin: Gister en vandag. Pretoria: Academica.

Stilma, B. 2011. Van kloosterklas tot basisschool. Een historisch overzicht van opvoeding en onderwijs in Nederland. Amersfoort: Thieme Meulenhoff. 

Stratman, J. 2018. Teens and the new religious landscape: Essays on contemporary young adult fiction. Jefferson, NC: McFarland & Company.

Sturm, B.W. en K. Michel. 2009. The structure of power in young adult problem novels. Young Adult Library Services, 7(2):39–47.

Suid-Afrika. 1996. Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika 1996. Pretoria: Staatsdrukkery.

Swanepoel, C. 2002. Afrikaanse literatuur vir die jong volwassene. MEd-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Teverson, A. 2013. The new critical idiom: Fairy tale. New York en Londen: Routledge.

Trites, R. 2000. Disturbing the universe: power and repression in adolecent literature. Iowa: University of Iowa Press.

Vaessens, T. 2013. Geschiedenis van de moderne Nederlandse literatuur. Nijmegen: Van Tilt.

Van Coillie, J. 1999. Leesbeesten en boekenfeesten. Hoe werken (met) kinder– en jeugdboeken? Leuven: Davidsfonds.

Van Coller, H.P. (red.). 2016. Perspektief en profiel. 2de uitgawe. Deel 2. Pretoria: Van Schaik.

Vandegrift, K.E. (red.) 1996. Mosaics of meaning: Enhancing the intellectual life of young adults through story. Lanham: Scarecrow.

Van Delft, M., R. Storm en T. Vermeulen. 2002. Wonderland. De wereld van het kinderboek. Zwolle: Waanders. 

Van den Bossche, S. en A. Klomberg. 2020. Jeugdliteratuur door de lens van etnisch-culturele diversiteit. Amsterdam: Stichting Lezen. 

Van der Schyff, S.P. 1998. Herderlike bediening aan die kind uit ’n egskeidingsgesin. ThM-verhandeling, PU vir CHO, Potchefstroom. 

Van der Walt, T. 2005. Afrikaanse kinder- en jeugprosa. In Wybenga en Snyman (reds.) 2005. 

Van der Westhuizen, B. 2016. Perspektief op kinder- en jeugliteratuur. In Van Coller (red.) 2016.

Van der Westhuizen, J.P. 1989. Opvoedkundig-sielkundige temas vir onderwysstudente. Durban: Butterworths. 

Van Duin, L. 2009. Oordeel of smaak? Recensie of column? Kinderboekenrecensies in de landelijke dagbladen in 2006. In Van Lierop-Debrauwer en Ghonem-Woets (reds.) 2009.

—. 2018. Taal als universum waarin de schepping nog niet af is. Joke van Leeuwen als kinderboekenschrijver “over alle grenzen heen”. Literatuur Zonder Leeftijd, 32(107):79–120. 

Van Eijnatten, J. en F.A. van Lieburg. 2005. Nederlandse religiegeschiedenis. Hilversum: Verloren. 

Van Gorp, H., R. Ghesquière en D. Delabastita. 1998. Lexicon van literaire termen. Groningen: Martinus Nijhoff.

Van Haaften, W. 2004. Opvoeding en ontwikkeling. In Groenendijk en Steutel (reds.) 2004.

Van Heerden, H. 2016. Leierskap in onseker tye. Die Koord. Maandblad van Universiteitsoord. No. 631, bl. 1.

Van Hoven, P. 1997. Critici over het bekroonde boek. Literatuur zonder leeftijd, 11(41):13–30.

—. 2011. Jeugdliteratuur bestaat niet: over de voort-durende strijd om het kinderboek. Tielt, Leidschendam: Lannoo Campus/Biblion.

Van Hoven, P. en H. van Lierop-Debrauwer. 2014. Zoektocht zonder wegwijzers. Adolescentenliteratuur. In Ghesquière, Joosen en Van Lierop-Debrauwer (reds.) 2014.

Van Koeven, B.H. 2011. Zo doen wij dat nu eenmaal: Literatuuropvattingen op open protestants-christelijke basisscholen. Delft: Eburon.

Van Lierop-Debrauwer, H. en N. Bastiaansen-Harks, N. 2005. Over grenzen. De adolescentenroman in het literatuuronderwijs. Delft: Eburon.

Van Lierop-Debrauwer, H. en K. Ghonem-Woets. 2009. Oordelen op maat. Een kwestie van vraag en aanbod. Over het beoordelen van jeugdliteratuur. Leidschendam: Biblion Uitgeverij.

Van Lierop-Debrauwer H., H. Peters en A. de Vries. 1997. Van Nijntje tot Nabokov. Stadia in geletterdheid. Tilburg: Tilburg Universiteitsdrukkery.

Van Niekerk, J. en B. van der Westhuizen. 2004. Humor in kinderverhale in die tersiêre en intermediêre fases van taalonderwys. Literator, 25(3):151–79.

Van Noort, W. en R. Wiche. 2006. Nederland: Een voorbeeldige natie. In Van Noort en Wiche (reds.) 2006.

Van Noort, W. en R. Wiche (reds.). 2006. Nederland als voorbeeldige natie. Hilversum: Verloren.

Van Zyl, C. 2010. Die invloed van religieuse en kulturele verskeidenheid op moraliteit in die huidige Suid-Afrikaanse konteks: ’n Uitdaging vir Christelike kerke. Verbum et Ecclesia. https://verbumetecclesia.org.za/index.php/ve/article/view/405/477 (5 Maart 2020 geraadpleeg).

Van Zyl, I. 1990. Jeugdiges se leesvoorkeure – ’n ondersoek. Facets, 9(1):8–19. 

Venter, R. 2006. Die materiële produksie van Afrikaanse fiksie (1990–2005) – ’n Empiriese ondersoek na die produksieprofiel en uitgeweryprofiel binne die uitgeesisteem. DPhil-proefskrif. Universiteit van Pretoria. 

Verwey, H. 1999. Die jong lesers van Centurion: Wat lees hulle en waarom? Stilet, (11)1:115–20.

Vloeberghs, K. 2006. Kindbeelden in de westerse moderniteit. Literatuur zonder leeftijd, 20(70):10–23.

VO-raad 2019: Pisa toont noodzaak voor leesoffensief. https://www.vo-raad.nl/nieuws/pisa-toont-noodzaak-voor-leesoffensief (5 Desember 2019 geraadpleeg).

Vos, J.E. 2006. Identiteitsontwikkeling in geselekteerde jeugverhale van Barrie Hough. MA-verhandeling, Noordwes-Universiteit.

—. 2014. ’n Leesmotiveringsprofiel van en ’n -raamwerk vir Afrikaanssprekende adolessentelesers. PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit. 

—. 2018. Moraliteit en omstrede kwessies in jeugverhale: ’n beskouing oor Onderwêreld deur Fanie Viljoen. LitNet Akademies, 15(1):285–310.

Vos, J.E. en R. Van Oort. 2018. ’n Selfgerigte-lees-proses: Traumabelewing en -verwerking in die jeugroman Blou is nie ’n kleur nie deur Carin Krahtz. LitNet Akademies, 15(3):926–62.

Westerman-Dannenberg, H. 2018. Zoektocht naar gezamenlijk moreel kompas kansloos. Reformatorisch Dagblad, 26 September. https://www.rd.nl/opinie/zoektocht-naar-gezamenlijk-moreel-kompas-kansloos-1.1515581 (17 Maart 2020 geraadpleeg).

Wiehann, R. 1991. Kinder- en jeugboeke – volwaardige literatuur? Klasgids, 26(3):8–15.

Wigfield, A., J.S. Eccles en P.R. Pintrich. 1996. Development between the ages of 11 and 25. In Berliner en Calfee (reds.) 1996.

Wijsbroek, S., L. van der Poel en R. van Goor. 2019. Jongeren en de rol van het gezin. In Hermes, Van Goor en De Jong (reds.) 2019.

Wisse, M., T. Boer, P. Vos, K.W. de Jong en P. Schaafsma. 2018. Samenleving heeft een moreel kompas nodig. Reformatorisch Dagblad, 28 September, bl. 1.

Wolf, S.A., K. Coats, P. Enciso en C.A. Jenkins (reds.). 2011. Handbook of research on children and young adult literature. New York: Routledge.

Wolfsen, A., I.D. de Beaufort, D.D. Braat, W.J. Eusman, J. Hermanns, F. Ibili en T. Liefaard. 2016. Kind en ouders in de 21e eeuw. Rapport van de Staatscommissie Herijking Ouderschap. Samenvatting. Den Haag: Staatscommissie Herijking Ouderschap.

Worthy, J., E. Patterson, R. Salas, S. Prater en M. Turner. 2002. More than just reading: The human factor in reaching resistant readers. Reading Research and Instruction, 41(2):177–202.

Wybenga, G. en M. Snyman (reds.). 2005. Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom: ’n Gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek. Pretoria: Lapa Uitgewers.

Zoontjens, P.J. 2003. Bijzonder en openbaar onderwijs. In Bertens (red.) 2003.

 

Eindnotas 

1 Wêreldwyd is daar uiteenlopende sieninge oor die ouderdomsgroepering van jeugliteratuur. Die volgende onderskeid word byvoorbeeld ten opsigte van die hoofkarakters in hierdie verhale getref: Jeugromans as “Entwicklungsromans” bevat ’n hoofkarakter wat op pad na volwasseneskap is, terwyl jeugromans as “Bildungsromans” ’n hoofkarakter bevat wat teen die einde van die verhaal volwassenheid bereik (Trites 2000:10).

Wat die ouderdom van jeuglesers betref, beskou Ghesquière (2009) letterkunde vir jongvolwassenes as verhale vir lesers van 12 tot 16 oud; Van Zyl (1990:9) is van mening dat jeugletterkunde vir 11- tot 15-jariges is. Wiehann (1991:9) praat van letterkunde vir jongvolwassenes as verhale vir 16- tot 21-jariges, terwyl Donelson en Nilsen (1980:7) jeugboeke vir kinders rondom 15 jaar beskou. Verdere beskrywings vir tienerboeke en jeugfiksie is jongvolwasseneliteratuur vir 16- en 17-jariges (Swanepoel 2002:12). Vir Sturm en Michel (2009:39–40) is jeugromans vir lesers tussen 12 en 18 jaar oud. Anker (2011) gebruik die terme jeuglektuur en jeugroman as vertalings van “young adult novels”.

In die tagtiger- en negentigerjare van die vorige eeu het die sogenaamde probleemroman ontstaan en is dit as ’n subgenre binne die jeugromangenre beskou. Volgens Sturm en Michel (2009:40–4) kan probleemromans tans as eietydse realistiese fiksie beskou word. Hierdie (sub)genre fokus op aktuele omstandighede met realistiese ruimtes en karakters wat probleme moet hanteer wat binne ’n geloofbare konteks afspeel. 

Jeugdverhalen is in Nederland ’n oorkoepelende term vir kinder- en jeugliteratuur; literatuur vir 16- tot 20-jariges word as jeugliteratuur beskou. In Suid-Afrika weer word literatuur vir 12- tot 18-jariges as jeugverhale beskou. Om verwarring uit te skakel word in hierdie artikel op 12- tot 18-jariges gefokus en word die terme jeug, jeugdige en jeugverhale gebruik om na hierdie ouderdomsgroep te verwys.

2 Wanneer in die artikel na taalonderwyser verwys word, impliseer dit die voornemende sowel as praktiserende Nederlandse en Afrikaanse taalonderwyser. Die historiografiese beskrywing (vergelyk paragraaf 4.4) is nuttige en verrykende agtergrondkennis vir die voornemende taalonderwyser, terwyl die voorgestelde riglyne (vergelyk paragraaf 5) vir die voornemende sowel as die praktiserende taalonderwyser saamgestel is.

3 As gevolg van die omvangrykheid van die Nederlandse en Afrikaanse jeugverhaalgenre waarna in hierdie artikel verwys word, is die jeugfiksietekste nie in die bibliografie opgeneem nie. In die teks word wel na die skrywer, titel en publikasiedatum verwys.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Riglyne vir die mediëring van omstrede kwessies in Nederlandse en Afrikaanse jeugverhale appeared first on LitNet.

Wat wou

$
0
0

Fotobron: Canva

wat wou

daar was die agtermiddagradioprogram se arias
die sang van tenoor teenoor die sang van sopraan
om op te reken
(maar)
baie selde toe nugter weet ooit ’n duet
op daardie program

dit was nie wie trek die gordyn toe nie
dit was elke sondag tussen drie en vier

daar was die radioprogram se bekende arias
maar wat wou sy
nugter weet

 

The post Wat wou appeared first on LitNet.

Vroulike karaktersubjektiwiteit: die strategiese gebruik van nomadiese skryf deur Eleanor Baker

$
0
0

Vroulike karaktersubjektiwiteit: die strategiese gebruik van nomadiese skryf deur Eleanor Baker

H.P. (Hennie) van Coller en Marian Human-Nel, Departement Afrikaans en Nederlands, Frans en Duits, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 17(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Hierdie artikel dien as ’n herwaardering van Eleanor Baker, ’n enigsins miskende vroueskrywer binne die Afrikaanse literatuursisteem. Baker het liefdesverhale onder verskeie skuilname geskryf, maar het ook, met 15 “ernstiger” tekste wat onder haar eie naam verskyn het, erkenning in die Afrikaanse literêre kanon nagestreef. Die feit dat sy oor die lewe van vroue, en haar siening daaromtrent,  geskryf het, het die resepsie van haar werk waarskynlik negatief beïnvloed. Die doel van hierdie artikel is om binne die teoretiese raamwerk van Braidotti (2014) se begrip nomadiese skryf Baker se veranderende uitbeelding van die vrou en vrouwees deur ’n resepsieondersoek te volg en te bespreek. Die onderliggende hipotese is dat Baker hardnekkig haar eie weg ingeslaan en bly skryf het oor vroue se strewe na ’n ander identiteit as dié van die onderdanige vrou, en die gestereotipeerde voorstelling daarvan. Ondanks die feit dat haar werk in botsing was met die literatuuropvattings van hoofsaaklik manlike hekwagters, het sy haarself as nomadiese skrywer daarteen verset en voortgegaan om vroue as onafhanklike individue uit te beeld. 

Trefwoorde: kanonisering; karaktersubjektiwiteit; literatuuropvattings; marginalisering; nomadiese skryf; patriargale bestel vs. feministiese sienings

 

Abstract

Female character subjectivity: the strategic use of nomadic writing by Eleanor Baker

This article serves as a re-evaluation of Eleanor Baker, a somewhat undervalued author within the Afrikaans literary system. Baker wrote love stories under various pseudonyms, but also 15 “serious” literary texts under her own name, striving for literary recognition and inclusion in the literary canon. All her novels dealt with women in crises, often in precarious personal relationships. It is possible, even probable, that this subject matter negatively impacted on the literary reception of her work. In this article Braidotti’s (2014) concept of nomadic writing is used as a theoretical framework to analyse Baker’s evolutionary representation of women and womanhood, with the focus on the reception of her work. The underlying hypothesis is that Baker stubbornly represented women as striving for new identities, scorning the traditional stereotyped feminine position of subordination to men. Notwithstanding the fact that the traditional literary “gatekeepers” were men, Baker embraced nomadic writing in her uncompromising representation of the Afrikaner woman and wife.

Keywords: canonisation processes; character subjectivity; concepts of literature; marginalisation; nomadic writing; patriarchy vs feministic approaches

 

1. Inleiding 

“Ek skryf omdat skryf amper al is wat ek wil doen.” (Uit Baker se  “sêgoed”)1

Eleanor Baker (1944–2002) publiseer oor ’n tydperk van drie dekades – van die begin van die 1970’s tot haar dood in 2002. Gedurende hierdie tydperk word die Afrikaanse literêre sisteem deur veranderende literatuuropvattings gekenmerk. Binne die Afrikaanse literêre sisteem het literatuuropvattings gedurende hierdie sowat 30 jaar dikwels ook die ideologieë van sekere sosiale groeperinge soos dit in die samelewing voorgekom het, verteenwoordig (Human-Nel 2009:119–228).

Patriargale sienings ten opsigte van geslag – “geslagspolitiek” (Van Niekerk 1999:308, Human-Nel 2009:4 en 105–4) – was onderliggend deel van literatuuropvattings van hekwagters wat gedurende die periode 1972–2002 oorwegend manlik (en wit) was. Die patriargale bestel soos wat dit as deel van Afrikanerskap binne die Suid-Afrikaanse samelewing voorgekom het, was weens veranderende politieke omstandighede onder druk en het ook verandering binne die literêre sisteem meegebring. Veranderende magsposisies in die samelewing is ook in literatuuropvattings weerspieël: 

The story of Afrikaans literature is one of changing values. The combination of religion, patriarchy and nationalism, so boldly proclaimed in the earliest Afrikaans writing, was tested, nuanced and adapted through the years; and ultimately discarded. (Van der Merwe 1994:8) 

Baker was maar alte bewus van dié literatuuropvattings of poëtikale verwagtinge binne die Afrikaanse literatuursisteem. Sy het dus, voorkomend, strategies opgetree deur self onderskeid te tref tussen haar lae en hoë literatuur: ’n Groot hoeveelheid van haar gewilde ontspanningsliteratuur het onder skuilname verskyn, terwyl sy self die 15 ernstige tekste wat onder haar eie naam, Eleanor Baker, verskyn het, as haar hoë literatuur geklassifiseer het. Baker se ernstige oeuvre strek van 1972 tot 2002. Dit was dié ernstige werke wat debatte uitgelok het. Human-Nel (2009) kom in haar proefskrif “Die impak van sosiopolitieke verandering op die plek van vroueskrywers in die Afrikaanse literêre kanon” tot die gevolgtrekking dat Baker se vroulike tematiek, haar toeganklikheid en haar warsheid van politieke betrokkenheid grootliks tot haar marginalisering bygedra het. Dit was ook dié ernstige skryfwerk van Baker wat haar plek in die Afrikaanse literêre kanon negatief beïnvloed het (Human-Nel 2009:289–342).

Human-Nel en Van Coller (2016a) sluit hul vorige artikel, “Literêre prestige – die geval Eleanor Baker” af deur te vra of “die vroulike ervaring wat voorop staan” in haar skryfwerk “saam met die tipiese ‘vroulike’ tematiek van huis en haard en verhoudings, nie die oorsaak van negatiewe beoordeling deur veral manlike resensente was nie”. Alhoewel Baker se literêre prestige in die vorige artikel deur die navorsers gestel en beredeneer is, is daar nog nooit gekyk na haar keuse om spesifiek oor die lewe van vroue en vrouwees te skryf nie. Vroeg reeds in haar skrywersloopbaan verklaar sy – ondanks die feit dat literatore en resensente as hekwagters se verwagtinge juis politieke betrokkenheid was – dat sy nie oor die “groot probleem van ons tyd – die wit-swart-verhouding” wil/wou skryf nie, maar eerder oor “maatskaplike en menslike probleme” (Scholtz 1974:4). Ondanks negatiewe kommentaar op en beoordeling van haar “ernstige” skryfwerk en spesifiek die vroulike tematiek daarvan, maak sy ’n bewustelike keuse om in haar daaropvolgende skryfwerk, in ’n nuwe publikasie/publikasies eerder betrokke te wees by die wese van die vrou as mens en nie by die politiek van die dag nie.

Inderwaarheid het Baker dus teen die Afrikaanse literêre kanon reageer. Sodanige skrywersoptrede word in onder andere Deleuze en Guattari (2003) se filosofie van nomadisme vervat: “Nomadism […] involves refusing to be tied down by set categories and definitions. It is driven by a desire to experiment and explore, to learn, grow, and boldly venture forth on creative lines of flight” (Rayner 2013). “Skryf as nomadiese subjek” is derhalwe ook ’n sterk verset teen vaste kategorisering en geykte verwagtings; in die geval van Baker wat betref die “plek van die vrou” of die aard van “vroulike skryfwerk”.

Daarom word met die huidige artikel van die hipotese uitgegaan: 

  • dat Baker ondanks poëtikale besware en heersende literatuuropvattings alreeds in die 1970’s patriargale grense oorskry het
  • dat Baker deur haar verskillende vrouekarakters wou illustreer dat daar geen vaste kategorie van “vrouwees” bestaan nie
  • dat sy vroulike hoofkarakters aan die woord gestel het om haar eie standpunt oor die vrou se posisie in die samelewing oor te dra
  • dat veranderende literatuuropvattings daartoe bygedra het dat Baker strategies op die resepsie van haar werk en dus ook teen die Afrikaanse literêre kanon reageer het.

 

2. Nomadiese skryf – ’n teoretiese benadering

“’n Goeie skrywer is een waarin jy jouself herken, wat jou waarneming bevestig en by jou die gevoel wek: só sou ek dit ook wou doen.” (Uit Baker se “sêgoed”)

Deleuze en Guattari (2003:xxviii) gaan uit van die standpunt dat “writing lies not only in what he says, or even in how what he says reveals a psychology of the author, but in the effects that the writing establishes in being written-in.” Nomadiese subjektiwiteit as filosofiese benadering word binne die Afrikaanse literatuursisteem deur Anker (2007) gesien as “’n skisoanalitiese beskouing oor karaktersubjektiwiteit”: Wat die skrywer “sê”, of dit waaroor daar geskryf word, vertel veel van die skrywer as konkrete outeur. Verder beskou Anker (2007:31–2) “Deleuze/Guattari se konseptualisering van die letterkunde” as “’n kwessie van styl”. Anker haal Deleuze en Guattari uit Anti-Oedipus (2003a:133) soos volg aan:

This is what style is, or rather the absence of style – asyntactic, agrammatical: the moment when language is no longer defined by what is says, even less by what makes it a signifying thing, but by what causes it to move, to flow, and to explode – desire. For literature is like schizophrenia: a process and not a goal, a production and not an expression.

Tydens die navorsing vir hierdie artikel se teoretiese begronding het dit duidelik geword dat die begrip nomadiese subjektiwiteit binne die poststrukturalisme in verskeie teorieë, studies en deur verskeie navorsers beredeneer is. Dit is ook Anker (2007:1) wat noem dat “Rosi Braidotti se werk Nomadic subjects (1994) [...] miskien een van die bekendste voorbeelde” hiervan is. Sedertdien het Braidotti dié geformuleerde teorie verskeie keer herskryf, onder andere in Nomadic theory: The portable Braidotti (Braidotti 2012), waarin ’n teoretiese raamwerk daargestel word om (ook) geskrewe tekste in perspektief te stel. Braidotti se nomadiese teorie beskryf ’n volhoubare moderne subjektiwiteit. ’n Alternatiewe teoretiese benadering vir die bestudering van menslike gedrag asook kulturele en sosiale kritiek word daargestel. Braidotti (2011:4) dui aan dat 

[t]he central concern for my nomadic subject is that there is a noticeable gap between how we live – in emancipated or postfeminist, multi-ethnic globalized societies – and how we represent to ourselves this lived existence in theoretical terms and discourses. 

Braidotti se herskrywing van haar nomadiese teorie gedurende 2014 bevestig

the need for more creativity or new figurations rests on the awareness that there is a noticeable gap between how we live – in emancipated or post-feminist, multi-ethnic globalized societies, with advanced technologies and high-speed telecommunication, allegedly free borders and increased border controls and security measures – and how we represent to ourselves this lived existence in theoretical terms and discourses. The systems of theoretical representation we have inherited from critical theory in the past are simply inadequate to the task. (Braidotti 2014:176) 

Dus ontwikkel Braidotti ’n positiewe, kritiese teorie wat genealogiese politieke wetenskap vernuwe:

Political theorists have addressed this pseudo-nomadism as a feature of advanced capitalism, notably Hardt and Negri, Virno and the group gathered round the journal Multitudes.2 My nomadic subject is part of the same theoretical tradition, though genealogically it plunges its roots in feminist theory and anti-racist politics. (Braidotti 2014:177)

Wanneer daar aanvaar word dat Baker se posisie in die Afrikaanse literêre kanon in ’n groot mate bepaal is deur “geslagspolitiek” (Van Niekerk 1999:308), dien teoretiese uitgangspunte rondom “skryf as nomadiese subjek”, of dan ook deur Braidotti (2014) “nomadiese skryf” genoem, as een van die mees gepaste navorsingsinstrumente. (’n Ander een sou “selfvoorstelling” kon wees en wel deur die gebruikmaking van onder meer die begrip postuur [Erasmus-Alt 2019:75–133].) Die navorsers se keuse om Braidotti se teorie oor “nomadiese skryf” te gebruik, word ook gemotiveer deur die feit dat Braidotti geïnspireer word deur die Deleuziaanse vitalisme.3 ’n Verdere aanknopingspunt vir hierdie artikel word hiermee geaktiveer, want Baker se skryfwerk word, soos Deleuze en Guattari (2003b:19) in Kafka. Toward a minor literature dit beskryf, ’n verfyning van haar eie natuur. Baker die konkrete outeur dui telkens in haar tekste deur haar vroulike karakters aan die woord te stel aan dat

  • die ongewone deel is van die gewone alledaagse bestaan
  • die ongewenste alledaagse bestaan noodsaaklik is
  • die grens tussen die werklike en onwerklike en dié tussen die normale en die abnormale moeilik onderskeibaar is.

Voorts word beklemtoon dat die mens (en dus ook die vrou as mens) altyd in verhouding met ander (en spesifiek ’n man of mans) staan, maar veral dat ’n man en ’n vrou se uitkyk of lewensbeskouing oor al hierdie bogenoemde aspekte, verskil. Hieruit kan egter ook afgelei word dat Baker geen ingrypende verset soos dié van aggressiewe feminisme gebruik het nie – en wel omdat sy deeglik bewus was van die normatiwiteit van die literêre sisteem van haar tyd, veral ten opsigte van dit wat op daardie stadium nié gesê moet/mag word nie – “negatief-georiënteerde poëtika” soos De Geest (1996:179) daarna verwys.

By Baker, die konkrete outeur, was daar egter ’n intense “will to-know, the desire to say, the desire to speak, it is a founding, primary, vital, necessary and therefore original desire to become” (Fenoulhet 2013:9) – tipiese eienskappe van “skryf as ’n nomadiese subjek”. Fenoulhet (2013:2) bestudeer ook die werk van Braidotti en beskryf hierdie intense skrywersdrang – sodanige mobilisering – as “the basic human mode of being”. Deurdat sy skryf, vind ’n proses van mobilisering tot ’n ander vlak van vrouwees of selfs dan menswees vir Baker self as konkrete outeur plaas. “Skryf” word vir Baker ’n medium waardeur sy haar eie lewensbeskouings – haar “immanensie” – kan mobiliseer: ’n proses van “becoming above states of being” (Fenoulhet 2010:12); dit wat beskryf word as ’n strewe na identiteitsverandering. Baker maak van skryf gebruik om haar siening en standpunt oor die wese van die vrou en die vrou se alledaagse bestaan uit te druk – om te kan “sê”.

Deur hierdie resepsie-ondersoek, asook by die lees van haar werk, word dit duidelik dat Baker as mens (die konkrete outeur) deurentyd streef na ’n ander bestaan as die alledaagse of aanvaarde, of selfs dit wat binne die patriargale bestel van die vrou verwag word. Hierdie strewe na, of dan “becoming”, ’n ander status van vrouwees is ’n belangrike begrip “as it allows for new subject-formations rather than fixed identities” (Fenoulhet 2010:12). Die wyse waarop Baker hierdie nomadiese subjek in haar skryfwerk betrek, behels “an approach that took human mobility as starting point” (Fenoulhet 2010:1). Braidotti se begrip writing-as-a-nomadic-subject word deur Fenoulhet (2013) as funksioneel gesien en wel omdat dit ’n ideale benadering is om feministies-gedrewe sienings – in dié geval vroulike skrywers se skryfwerk of feministies-gedrewe skriftelike tekste – te bestudeer:

[T]he nomadic subject allows conjugate feminist politics with a variety of other powerful political and theoretical concerns and locations. The nomadic subject state has the potential for positive re-naming, for opening up new possibilities for life and thought especially for woman and, even more for female feministic woman. (Fenoulhet 2013:9)

Wanneer Braidotti (2014:1) dan verklaar: “Writing is an intransitive activity, a variation on breathing, an end in itself; it is an affective and geometrically rigorous mode of inscription into life”, sluit dit aan by wat Baker die konkrete outeur ook verklaar, naamlik dat “skryf” al is wat sy “wil” doen. Daarom is dit vir die navorsers ’n uitdaging om Baker en haar skryfwerk te lees “vanuit ’n vereenvoudigde” maar reeds bewese en “bruikbare, kartering van die nomadiese subjek” (Anker 2007:3). Braidotti se siening van “nomadies skryf” sal dus gebruik word as invalshoek tot die ondersoek – “as a lens through which to view novels”. Vanuit hierdie invalshoek sal aangedui word hoe Baker vrouwees as nomadiese subjek in haar skryfwerk hanteer het.

Hierdie artikel sal vervolgens fokus op Baker se gebruik van haar vroulike karakters

  • om te sien hoe hierdie vroulike karakters wat sy telkens in haar opeenvolgende ernstige skryfwerk skep, se subjektiwiteit funksioneer
  • om verder uit te vind hoe hierdie karaktersubjektiwiteite wel as nomadiese subjektiwiteite gelees kan of moet word.

Om hiérdie resepsie-ondersoek te onderneem is:

  • met twee soorte resepsieverslae gewerk, naamlik besprekings en beskouings wat as ’n eerste reaksie ná die publikasie van ’n roman verskyn het, en ander wat vanuit ’n agternaperspektief – hoofsaaklik in literatuurgeskiedenisse – geskryf is
  • op agt van Baker se ernstige romans gefokus, en wel omdat die uitbeelding van die vrou en vrouwees hierin besonder sterk na vore kom.

 

3. Karaktersubjektiwiteit – uitbeelding van die vrou en vrouwees 

“Skryf is vir my ’n baie individuele ervaring. Wanneer ek aan ’n boek werk, voel ek: Dis my eie ding dié.” (Uit Baker se “sêgoed”)

Alreeds gedurende die 1970’s stel Baker vroue as vertellers in haar verhale aan die woord. Die vrou word van die begin van haar oeuvre wat storie (fabula) én verhaal (sujet) betref, vooropgestel. Daar word nie net vanuit ’n vroulike perspektief vertel nie; dit gaan primêr om vroue wat ontvlugting uit emosioneel ontwrigtende situasies soek. Die name wat Baker vir haar hoofkarakters kies4 word metafories deel van “skryf as nomadiese subjek”; die aard van hul vrouwees. ’n Vraag wat telkens by ’n vroulike karakter ontstaan, is of haar alledaagse bestaan haar lot is; of dit die vrou se ware werklikheid is. Vertellings word ’n spel tussen die “saaie werklikheid en ’n amper makabere moontlike werklikheid” (I. van Zyl 1978:2). 

Die navorsing word op twee vlakke ’n studie van vroulike subjektiwiteit: Eerstens skryf Baker oor “die soort lewe wat baie vroue lei” (Grobler 1996:5) en oor die lewe wat sy as konkrete outeur self as vrou leef, beleef en gelewe het. Haar belewing van vrouwees en die neerpen daarvan verteenwoordig nie net haar eie nie, maar ook die lewens van baie vroue as sosiale groepering. Baker gebruik vroulike hoofkarakters om namens haar die lewe wat “hulle” lei te verwoord; om die vroulike geslag se strewe na bevryding – emansipasie – te beskryf. Dus maak sy gebruik van vroulike karakters om as “spreekbuise” op te tree. Dit wat deur Anker (2007:3) as “karaktersubjektiwiteit” benoem word, word deur Baker strategies aangewend om aan te dui dat dit vir haar nie slegs maar gaan om die emansipasie van die vrou nie, maar veral oor die emansipasie van die vrou as mens binne haar alledaagse bestaan.

Tweedens gaan dit vir haar – Baker, die konkrete skrywer – ook oor haar emansipasie as ’n vroulike skrywer in die Afrikaanse literatuursisteem. Vir Baker was dit belangrik om haarself as vroulike skrywer te posisioneer binne ’n literatuursisteem waarvan die sentrum, die Afrikaanse literêre kanon, oorwegend oorheers is deur mans wat bepaalde literatuuropvattings gehuldig het (Human-Nel en Van Coller 2016a:89). Baker het die wese van die vrou en die ware omvang van wat dit is om ’n vrou in ’n huweliksverhouding te wees, “ernstig” genoeg geag as onderwerp/tema/“subjek” om oor te skryf. Haar strewe was dus by uitstek om met haar 15 ernstige tekste wat sy self as hoë literatuur van haar ander skryfwerk onderskei het, emansipasie vir haarself in die Afrikaanse literêre kanon te bewerkstellig. Baker het dié sentrum begin uitdaag, en dit het geskied deur middel van “nomadiese skryf” – om te wees, om te skryf, is om te word (Anker 2007:539).

3.1 Monica (1978)

Dit hou nooit op nie en dit sal nooit ophou nie. Dit sal aanhou van nou af tot in ewigheid, amen. En aan die einde sal daar niks wees om te wys nie en niemand sal ooit weet hoe sy dit gehaat het nie.

Met hierdie uiting dui Monica (betekenis: uniek, raadgewer, non, afgesonder), die hoofkarakter, aan dat sy as ’n onvergenoegde huisvrou vasgevang voel in haar omstandighede binne die huwelik. Vir haar man is dit ’n eer dat sy vrou nie hoef te werk nie. Sy voel dat die feit dat sy nie hóéf te werk nie, haar die geleentheid ontneem om haar intelligensie en uniekheid uit te leef. Sy voel egter nie net vasgevang in haar alledaagse bestaan nie, maar ook weens ’n eksistensiële krisis: ’n buite-egtelike daad. Sy bieg hieroor by ’n ander vrou; dit word later teen haar gebruik. Skuldgevoelens dwing haar om oor haar lewe te herbesin. Sy besef dat die huisopset eintlik vir haar ’n skuiling bied.

Volgens Brink (1978:17) het Baker “in Monica haar doelbewus die veeleisende taak opgelê om met ’n uiters skraal en selfs ‘onbelowende’ gegewe ’n eng raamwerk op te stel waarbinne sy indringend en sekuur die nagmerrie in die hart van die alledaagse kon ontgin – so naarstig en kompromisloos soos enige ontdekkingsreisiger”. Eers sowat tien jaar later verklaar Brink (1988:102) dat Baker veel meer as slegs ’n “sintaktiese neerslag van vroulikheid” in haar skryfwerk betrek. Maar met Monica was Baker se siening oor vrouwees alreeds daar en die begin van ’n nomadiese subjek om haar siening oor die lewe en bestaan van die vrou te verwoord. Hiermee het sy ’n ideologiese grondslag vir die vroulike visie en die vrou se belewenis van vrouwees gelê.

Ten opsigte van die toepassing van haar vroulike perspektief was Baker haar tyd vooruit, want feministiese tekste word eers gedurende die 1990’s werklik ’n neiging binne die Afrikaanse literatuursisteem. Gedurende die 1970’s was skryfwerk vanuit ’n feministiese invalshoek soos dié van Baker wat in Monica aangetref word, nog nie algemeen nie en was “feministiese werke of verhale waarin die feministiese denke eksplisiet uitgedra word, nie ’n algemene verskynsel in Afrikaans nie” (De Jong 1992:127). Baker se betrokkenheid by geslagspolitiek het alreeds gedurende die 1970’s met Monica buite die grense van die Afrikaanse literêre kanon van die periode geval. In daardie stadium het Baker se skryfwerk eerder aangesluit by ’n “Europees-Westerse feministiese oplewing” omdat “daar (waarskynlik tot op daardie stadium) geen Afrikaanse feministiese beweging ten opsigte van die literatuur bestaan het nie en ook geen Afrikaanse feministiese literêre tradisie nie” (De Jong 1992:127).

Human-Nel (2009:227, 294, 304) wys verder daarop dat hierdie vroeë gebruikmaking van geslagspolitiek ook kon wees vanweë Baker (as eggenoot van ’n diplomaat) se konkrete buitelandse blootstelling hieraan. Baker se aanslag was egter nooit ’n uitdagende feminisme nie; en aanvanklik nie aanvallend teenoor die patriargale bestel nie (sien 3.7 en 3.8). Sy het strategies te werk gegaan en het aan die begin van haar skrywersloopbaan wel gepoog om hierdie strewe na ’n ander vrouwees ten gunste van die “positief-georiënteerde poëtika” (De Geest 1996:179) – dit wat op daardie stadium “gesê” kon word – te verwoord. Dat Baker hierdie biografiese aspek deurgaans in onderhoude vermeld het, is ook ’n manier van selfvoorstelling en beklemtoon iets van die “uitsonderlike”. 

Menslike verhoudinge is ’n sentrale tema in Baker se werk. Deur die gebruik van die motto “Humankind cannot bear very much reality” (’n aanhaling uit Four quartets [“Burnt Norton”] van T.S. Eliot) raak Baker ’n lewenswaarde of lewensbeskouing aan wat op haar eie konkrete lewenservarings dui. Met Monica wil Baker iets sê rakende die vrou se rol teenoor haar man in die huwelik; haar spesifieke verantwoordelikheid in hul huweliksverhouding. Die nomadiese subjek waarmee Baker werk – vrouwees – word gedryf deur ’n hele proses: die strewe na ’n ander identiteit as die tradisioneel gestereotipeerde onderdanige vrou in die huweliksverhouding. Met Monica gryp Baker na die werklikheid van die alledaagse sleur van ’n vrou se bestaan. Volgens D. van Zyl (2006:205, 2015:315) “reflekteer die roman die engheid in ’n gemeenskap wat vroue as ‘ontmagtigdes’ opvoed aan die hand van starre konvensies en die Bybel”.

Alreeds met Monica bevraagteken Baker die patriargie en die gestereotipeerde of die tradisionele rol van die vrou in die huwelik, hier spesifiek die beperkinge wat haar rol as huisvrou vir haar as mens inhou: Is die kerk, kinders en kombuis haar enigste huis en vesting? Die hoofkarakter se naam beteken “alleenheid” en hierdie naam is derhalwe simbolies van haar eie toestand as eggenoot én mens. Alhoewel sy ’n unieke persoonlikheid het, in haar samelewing waarskynlik ’n raadgewende rol kon speel, word haar lewe ingeperk tot die huis soos dié van ’n non tot ’n klooster; dit wat sy kan bied – haar lewenswaarde – word ingeperk tot dié van ’n huisvrou. Die strak uitdrukking van die vrou op die voorblad is funksioneel vooruitwysend na dit wat Baker wil “sê”. Eers aan die einde van die leesproses word dit vir die leser duidelik dat die vrou op die voorblad – hiérdie Monica – verteenwoordigend is van baie ander “Monicas” en die vrou se alledaagse (en soms eensame) bestaan. Die teks Monica op sigself word ook vooruitwysend na Baker se siening omtrent “vrouwees”, dus as nomadiese subjek. Elke vroulike karakter wat sy hierna skep se persoonlikheid word betekenisdraend van een of ander bestaanskrisis van dit wat in die naam Monica opgesluit lê. 

Die ironiese gebeur egter in Monica, die verhaal van die “huisvrou wat uit die sinloosheid van haar bestaan deurbreek tot wat die filosowe outentisiteit sou noem” (Brink 1978:17). Baker sê hier alreeds iets van vrouwees wat teenstrydig is met die tradisionele rol van die vrou in die huwelik. Ondanks hierdie “deurbraak” keer hierdie huisvrou eerder terug na “die veiligheid van haar huis”; sy kom tot die “besef dat sy in die veiligheid van haar huis wil bestaan, haar lot wil aanvaar” (Johl 1978:7). Sodoende bevestig Baker ’n verdere werklikheid: Die huis as ruimte/plek skep ’n milieu waarmee die patriargale behoud van die tradisionele rol van die vrou in die huwelik vereenselwig word. Die huis (wat hier die vrou se verantwoordelikheid ten opsigte van die kombuis, kerk en kinders versinnebeeld) word as die vrou se plek (ruimte/omgewing) beskryf – daar waar sy hoort. Baker gebruik hiérdie metafoor deurgaans in haar skryfwerk: Dit “herinner aan Baker se laaste roman Die ander Marta, waarin Marta uiteindelik losbreek asook aan die situasie van die vroueskrywer Sophia in Verbeelde werklikheid” (D. van Zyl 2015:315). Alreeds by die lees van Monica bring Baker die besef dat die vrou se posisie of plek in die huwelik ’n skuiling (soos ’n klooster vir ’n non) vir die vrou kan bied, by die leser tuis. 

Verder het Baker met hierdie teks alreeds gedurende die 1970’s ’n geleentheid/ruimte geskep vir vroueskrywers soos Winterbach se Karolina Ferreira en Marita van der Vyver se Griet skryf ’n sprokie, wat gedurende die 1990’s eers/ook tot dié slotsom kom, en dit bevestig dat Baker wel haar tyd ten opsigte van hierdie aspek vooruit was (Human-Nel 2009:250–3; 256–71). Van der Vyver sou later inderwaarheid soortgelyke temas as Baker gebruik, maar het weggestuur van die gelukkige eindes wat deurentyd en tot met Baker se laaste roman, Die ander Marta, wel die geval was (Van Coller 2006:485–91). Ondanks die siening dat “verhale wat oor vroue handel; binne familie- en liefdesverhoudings, huwelike en egskeidings; as werkende en alleenlopende vroue, enkelouers; verhale waarin die verhouding met mans dikwels sentraal staan” (Roos 1998:105) as populêr of hoogstens gewilde prosa geklassifiseer was; ondanks die degradering van menslike verhoudinge as kontekstuele materiaal vir die inhoud van haar tekste, word dit Baker se skryfmateriaal, haar boodskap – dit wat sy wou “sê”.

3.2 ’n Geslote boek (1981) 

Mense kan baie onvoorspelbaar wees. Soos wonderboontjies wat uit jou hand spring wanneer jy dit nie verwag nie. 

Mense, wonderboontjies en boeke word vir die vroulike hoofkarakter, Magdaleen, metafories van die onvoorspelbare wat die wêreld vir haar inhou, maar tog ook dat dié onvoorspelbare – die ongewone – eintlik deel is van die gewone. Magdaleen (oorsprong: Bybelverwysingnaam, van ’n klein dorpie, prostituut) is in die buiteland ’n sekretaresse wat namens haar werkgewer moet omsien na sakemanne en hul gades se vervoer van en na die lughawe. Sy moet ook gasvrou wees by hierdie gaste se oornagverblyf. Haar waarneming van hulle verhoudings en optrede laat haar besef dat elke mens ’n geslote boek is; geslote vir mekaar. ’n Vriendin se dood verander egter haar uitkyk op die wêreld. 

In ’n Geslote boek maak Baker weer eens van ’n vroulike (ek-) verteller gebruik, maar dit word volgens die meeste resensente ’n ietwat negatiewe weergawe of dan cliché van die huisvroulike bestaan. Baker sê hier egter veel meer van dit wat vrouwees in die huwelik beteken; iets wat moontlik as gevolg van die patriargale verwysingsraamwerk van manlike hekwagters misgekyk is. Inderwaarheid skep die titel van die teks ’n poëtikale uiting wat sinspeel “op die aard van die mens” (I. van Zyl 1982:2).

Met ’n Geslote boek word die indruk geskep dat die geslotenheid tussen man en vrou ’n normaliteit of algemene verskynsel van die huwelik is. Wanneer die manlike en vroulike karakters (Paul en Magdaleen) na vele misverstande en verhoudingintriges mekaar vind, word in die verhaal voorgegee dat sodanige intriges in werklikheid ook ’n deel van menslike verhoudings of selfs die verbintenis tussen ’n man en ’n vrou in die alledaagse samelewing is. Eintlik is die hoofkarakter Magdaleen ’n sekretaresse, ’n beroep wat veronderstel dat haar normale pligte onder andere kantoorgebonde sal wees. Die werk wat hiérdie Magdaleen vir haar werkgewer moet doen, is sosiaal van aard en word tipiese take wat van vroue verwag word om vir hul mans te doen, soos in die huwelik, en wel ook sonder enige betaling daarvoor. Magdaleen word as werknemer ’n salaris betaal om as sosiale sekretaresse spesiale pligte vir haar werkgewer te verrig. Dit herinner aan ’n prostituut wat vir seks vergoed word; byna soos die huweliksplig waarvoor ’n getroude vrou egter geen vergoeding ontvang nie.

Baker se keuse van haar hoofkarakter se naam lewer inderwaarheid kommentaar op die negatiewe stereotipering van vroue. Sodoende “sê” Baker ook dat ongegronde vooroordeel vanselfsprekend as deel van vrouwees aanvaar word. ’n Verdere betekenis wat uit die keuse van die naam Magdaleen afgelei kan word, is dat jong meisies hulle met onskuld en onkunde in die huwelik begewe en nie weet waarvoor hulle hul inlaat nie. Magdaleen se weggaan van ’n klein omgewing, Suid-Afrika, na die groot wêreld (die buiteland) daar buite word dus metafories aangewend: Vir jong meisies is die huwelik soos “’n geslote boek” en word die werklikheid daarvan ontbloot eers wanneer hulle in die huwelik tree en hulle dan eers besef wat vrouwees werklik behels. Uiteraard stel dié gegewe reeds ’n ooreenkoms met die biografiese gegewens van die skrywer, Baker die konkrete outeur, se eie lewe. Eers met haar blootstelling aan ’n ruimer wêreld kom sy tot bepaalde insigte oor aspekte van vrouwees wat vroeër vir haar ’n “geslote boek” was. Baker het by verskeie geleenthede gesê dat sy as skrywer veel eerder belangstel in mense se denke en motivering vir bepaalde optredes as in hulle handelinge self. 

Baker se eie lewenservaring maak dit vir haar moontlik om deur die gebruik van haar hoofkarakter Magdaleen die onvoorspelbaarheid van die man-vrou-verhoudings te ontbloot as ’n diepgewortelde werklikheid van dit wat die huwelik ís. Baker bied dit egter met ’n humoristiese aanslag aan. Vanuit ’n agternaperspektief op die oeuvre van Baker word hierdie “koersverandering” deur D. van Zyl (2015:316) aangedui as “blywend”; ook dat “beide die intrige en die skryfstyl” gesinjaleer word deur die humoristiese inslag waarmee ’n Geslote boek in “’n doelbewuste ligter, meer toeganklike” trant geskryf is: 

[A]l dra die teks, in aansluiting by die titel, die ernstige boodskap oor dat mense wesenlik vir mekaar geslote boeke bly, word humoristiese strategieë soos ironie, sarkasme, innuendo, die absurde, sinisme en kontras vir die eerste keer ingespan ter karakterisering en in die satiriese ontbloting van diskrepansies en misverstande.

Alhoewel dit met hiérdie teks wil voorkom of Baker die soeke na ’n ander of selfs ’n nuwe identiteit van vrouwees heroorweeg, is die teenwoordigheid van “ironie, sarkasme, innuendo, die absurde, sinisme” eerder ’n aanduiding dat Baker se “skryf as nomadiese subjek” verdiep. Hierna bly die swaarwigtige tema van ’n Geslote boek, naamlik dat mense selfs binne ’n huweliksverhouding – man tot vrou – geslote of selfs onbekend vir mekaar is, ’n blywende faset van Baker se oeuvre. Maar ook die teenwoordigheid van humor word vanaf ’n Geslote boek – hierin en hierna – gereeld in Baker se ernstige werke aangetref. 

3.3 Weerkaatsings – ’n Sprokie (1984) 

And they lived happily ever after – as hulle lewe op daardie punt van oorgawe gevries kan word, was hulle ongetwyfeld na aan die ideaal.

Die vroulike hoofkarakter Lize (betekenis: om God te eer, perfeksie), ’n joernalis, is in België vir die behandeling van ’n bloedkwaal. Sy tree in die huwelik met ’n kluisenaar wat hom oor haar ontferm. Probleme om te kommunikeer as gevolg van haar afhanklikheid van hom, iets wat vir haar ’n verleentheid is, staan voorop. Hy weer sukkel met gebeure uit sy jeug, wat toon dat hulle beide vasgevang (opgesluit) is in die spreekwoordelike kasteel uit feeverhale/sprokies waarmee hierdie werk baie gemeen het. In elkeen se gedagtes is hul huwelik iets van ’n sprokie. Selfontdekking dra by tot hul ontdekking van mekaar as ware huwelikmaats. 

Mobiliteit, een van die tipiese kenmerke van nomadiese skryf, neem met hierdie teks van Baker ’n aanvang. In die verhaalgebeure kom die stremmende uitwerking van huwelikmaats (hier Lize en haar man) se onvermoë om met mekaar te kommunikeer sterk na vore. In Baker se daaropvolgende tekste word hierdie kenmerk van menslike verhoudings in die huwelik telkens aangespreek en al hoe sterker verwoord. Met Die ander Marta (2002) word Baker die konkrete outeur se siening dat kommunikasie tussen die man en vrou uiters noodsaaklik is, bevestig (sien 3.8). 

Verder word Baker se strewe om as ernstige skrywer erken te word met die skryf van Weerkaatsings binne die Afrikaanse literatuursisteem as ’t ware weerkaats. Gedurende 1985 word dié boek bekroon met die Kaaplandse-FAK-prys vir ontspanningsleesstof – dus teen haar eie verwagting in, omdat sy met hierdie teks, wat sy self as een van haar ernstige werke klassifiseer, eerder literêre erkenning sou wou bereik het of wou ontvang het. Hierdie teks is ’n bewys van daardie bepaalde tekste wat “weerspieëlings van bepaalde literatuuropvattings” in die oeuvre van Baker is (Van Coller en Odendaal 2005a:4). Tot dusver het Baker probeer om te skryf volgens sekere literatuuropvattings of poëtikale verwagtings, veral soos daargestel deur mans as hekwagters in die Afrikaanse literêre sisteem, maar is afgeskiet as onder andere té laat, té modegieragtig (sien Human-Nel en Van Coller 2016a:95).

Baker verklaar dat sy met hierdie teks “die liefdesverhaal [wou] legitimiseer, die stigma dat ’n roman nie noodwendig goeie letterkunde is nie, die nek inslaan” (I. van Zyl 1985:14). Hiermee word bevestig dat Baker deeglik bewus was van die daargestelde norme ten opsigte van wat as literêr en wat nie as literêr beskou is nie, maar inderwaarheid skryf sy met hierdie teks bewustelik daartéén. Die skryfmateriaal wat sy gebruik om hiérmee haar “sê te sê”, sluit aan by die filosofie van nomadisme “waar enige vooropgestelde strukture waarbinne analises van tekste plaasvind, enige voorafvervaardigde standaardvorms waarin tekste gegiet word”, vermy word (Anker 2007:17).

Met hierdie teks word dit dus duidelik dat Baker haar as vroulike skrywer bewustelik verset teen die Afrikaanse literêre kanon en wel op ’n wyse wat deur Braidotti die nomadiese subjek genoem word.

Deur Weerkaatsings te skryf skep Baker haar eie weergawe van ’n postmodernistiese teks. Die vroulike tematiek word binne die vorm van die tipiese kenmerke van die postmodernisme as ’t ware “oop” geskryf, omdat ’n vermenging van hoë en lae, ontspanningsliteratuur en ernstige letterkunde, en boonop op die stramien van die liefdesverhaal en sprokie, deel van Weerkaatsings die storie is. Die verhouding tussen die manlike en vroulike karakters word soos ’n beplande transaksie beskryf – hiér word ’n geleentheidshuwelik ’n sprokiesagtige weergawe van die huwelik. In elkeen se gedagtes (reeds ’n vorm van weerkaatsing) skep hulle ’n sprokieshuwelik van en met mekaar – ’n huwelik wat is soos dit waarna die hoofkarakter se naam Lize verwys: om God te eer, of selfs ’n huwelik gekenmerk deur perfeksie. Hiermee wil Baker dus sê dat hiérdie sprokie die soort huwelik is wat mense graag wil hê. A. van Zyl (1984:6) beskryf hierdie teks as nie net ’n intrigeverhaal nie, maar eerder “’n onpretensieuse gestaltegewing aan ’n moontlike werklikheid waarin unieke, maar oortuigende karakters figureer. Die waarhede van menslike verhoudings word laag vir laag onthul met ’n besondere trefsekerheid.”

Tog ontbloot Baker in die teks die werklikheid van dit wat sy eintlik wil “sê”; eers aan die einde “gee sy haar oor aan hom” (Baker 1984:189) “wanneer die vrou daarop aandring om haar verantwoordelikheid as vrou ook in die huis na te kom”; nou eers is daar sprake van ’n huwelik en verkry hulle saam ’n “vreemde dubbele weerkaatsing” (Baker 1984:190). Deur die verhaal so af te sluit, word sodanige einde veelbetekenend, want die “happily ever after” sál nooit durend wees in die werklikheid nie. Baker se gebruik van die sprokie bevestig dat sy as konkrete outeur self deur ’n veranderende siening van die huwelik as instelling gaan en dat dit in haar skryfwerk weerkaats word. Baker gebruik haar vroulike hoofkarakter, Lize, om namens haar as konkrete outeur haar eie ervaring te verwoord; dus binne die raamwerk van “nomadiese skryf” – dit waarna Anker (2007:3) verwys as karaktersubjektiwiteit. 

Baker se skryfwerk word ’n “intransitive activity” (Fenoulhet 2013:2) – deel van ’n veranderingsproses. Met Weerkaatsings bevraagteken Baker nie meer die plek van vroue in die samelewing nie, maar bevestig sy haar siening dat die status van die vrou in die samelewing verander móét word. Hierdie benadering tot haar skryfwerk, “as a vision of critical and feminist subjectivity in a nomadic mode” (Fenoulhet 2013:9), was egter op daardie stadium nog nie deel van Afrikaanse literatuuropvattings nie en dus was sy eerder te vroeg vir ’n neiging wat eers gedurende die 1990’s werklik posgevat het. (Human-Nel 2009:218–34; 289–342)

3.4 Die kwart-voor-sewe-lelie (1988) 

Niemand wou nog ooit na my luister nie.

Die hoofkarakter Iris (irisse is lelies wat elke aand op dieselfde tyd oopgaan; mitologiese verbinding met reënboog) is ’n Suid-Afrikaner wat haar in Amerika bevind. Sy is vasgevang in ’n alledaagse middelklasbestaan. Haar twee susters Elsa en Kara leef in uiteenlopende wêrelde; ook haar ma en pa en die huishoudster lewer ’n bydrae tot haar lewe. Sy begeef haar in ’n onromantiese huwelik, maar klou vas aan die hoop om eendag te “blom” en om wel so tot haar reg te kom. Haar optrede word deurgaans gerig op dít wat in die toekoms vir haar wag.

Wanneer hiérdie vroulike hoofkarakter in Baker se teks Die kwart-voor-sewe-lelie (1988:1) sê dat “niemand nog ooit na haar wou luister nie”, word miskenning uitgedruk. Alhoewel Baker in ’n onderhoud met Beyers (2000) van die standpunt uitgaan dat “niks en niemand nog ooit tussen [haar] en [haar] skryfwerk gekom het nie” (Baker in Beyers 2000:61), het sy maar alte dikwels aanduidings gegee dat sy sélf miskenning ervaar het en dat dit ook belemmerend op haar skryfwerk ingewerk het. Baker se man Walter wys ná haar dood daarop dat sy “heilig [was] op haar reputasie as ernstige skrywer” en dat dit haar “ontstel het dat byna elke roman onder die naam Eleanor Baker deur baie resensente gemeet of beskou is as middelmoot. En ja, by tye het sy haarself as misken beskou” (W. Baker 2004a; 2004b).

Die kwart-voor-sewe-lelie word op grond van uitsluitlik twee komponente beoordeel of selfs veroordeel: eerstens ten opsigte van die manier waarop Baker die Suid-Afrikaanse politieke omstandighede van die 1980’s betrek en tweedens op grond van die besonder sterk humoristiese aanslag wat in die teks aangetref word. Vroeg in haar skrywersloopbaan wys sy daarop dat sy “êrens gelees [het] dat iemand sê dat dit vandag die Afrikaanse skrywer se plig is om aandag te gee aan die groot probleem van die tyd – die wit-swart-verhouding. Maar al gee ek dit toe, kan ek nie daaroor skryf nie. Ek voel aangetrokke om oor maatskaplike en menslike probleme te skryf” (Baker in Scholtz 1974:4). Dit wil egter voorkom asof Baker sowel die politieke as die humoristiese aanslag juis aangewend het om maatskaplike en menslike probleme rondom vrouwees te ondersoek. 

Eerstens wys A. van Zyl (1989:15) daarop dat Die kwart-voor-sewe-lelie “die dissektering van die huwelik as instelling” is. Die lewe van Iris se twee susters word as teenoorgestelde pole teenoor mekaar gestel. Daarmee word twee karakters, twee lewens en twee ideologieë teenoor mekaar geplaas, naamlik dié van Elsa en dié van Kara. Elsa (ironies verwys haar naam ook daarna om God te eer) leef binne die beperkinge van die patriargale bestel en verteenwoordig die deursnee-Afrikanervrou, terwyl Kara (wie se naam “geliefde” beteken) “met die eksotiese naam wat haar nie deur haar Afrikaanse herkoms en Suid-Afrikaanse indoktrinasie op politieke vlak [laat] beïnvloed wanneer sy Claude (’n bruin man) in die vreemde (Frankryk) ontmoet” nie (Grobler 1989:2). Sy is ook die een wat “kinders van al die kleure van die reënboog wil hê” (Grobler 1989:2). Sodoende gebeur dit dat Baker vrouwees volgens die patriargale bestel teenoor vrouwees volgens feministiese sienings plaas. Baker was deeglik bewus van die Suid-Afrikaanse vrou se agterstand ten opsigte van feministiese neigings elders in die wêreld; asook haar konkrete belewenis en kennis van die ou Suid-Afrika én die Afrikanerkonteks. Dit is egter haar eie buitelandse ervaring as konkrete outeur wat dit vir haar moontlik maak om sodanige vergelyking te kan tref. Hiermee word Die kwart-voor-sewe-lelie duidelik deur Baker as nomadiese subjek gebruik om mobilisering van een status van vrouwees na ’n ander status van vrouwees deur “skryf” te láát gebeur.

As deel van Fenoulhet (2010:12) se bespreking van Braidotti se teorie word aangedui dat hierdie strewe – “becoming” – ’n belangrike begrip is, “as it allows for new subject-formations rather than fixed identities”. Die wyse waarop Baker hiér die nomadiese subjek met die teks in haar skryfwerk inweef, is nie staties nie “but an approach that took human mobility as starting point” (Fenoulhet 2010:1). Nomadiese skryf, die wyse waarop Baker die karakter Johanna as deel van die teks “inskryf”, dui op “immanensie” – identiteitsverandering (kyk afdeling 2). Johanna (betekenis: God se genade), die niewit huishoudster, word buite die Afrikakonteks in Amerika as gewaardeerde vriendin deel van die gesin (ironies is die gesin buite Suid-Afrika reeds verteenwoordigend van die reënboognasie wat in Suid-Afrika in die vooruitsig gestel was). Alhoewel dit die drie susters se ma is wat haar nie aan die kleurverskille steur nie, is Johanna vir Iris “genadiglik” ook daar om vas te klou aan haar hoop om eendag soos die iris te blom. Johanna is ook die een wat Iris laat besef “dat alles nie regtig so lelieblank is as wat mens vertel word nie” (Hambidge 1989:10). Karaktersubjektiwiteit maak dit vir Baker as konkrete outeur moontlik om háár “sê te kan sê” en wel met die hoop dat daar na haar standpunt geluister sal word. Hiermee word ook aangesluit by die strategiese gebruik van karaktersubjektiwiteit as deel van die politieke betrokkenheid wat Baker aanvanklik aangedui het as die soort betrokkenheid waaroor sy nié wou skryf nie, naamlik die “wit-swart”-betrokkenheid. 

Tweedens dui D. van Zyl (2006:209) aan dat die “apartheidsproblematiek” in Die kwart-voor-sewe-lelie “lig aangepak word”. Baker vermeld egter op ’n stadium dat sy doelbewus van humor gebruik gemaak het “om haar landsgenote te laat ontspan en as daar resensente was wat ander dinge in die boek wou raaksien, het dit haar nie gepla nie” (Terblanche 2016). Humor word in Die kwart-voor-sewe-lelie ’n funksionele struktuurelement wat bydra tot die uitwys van die ironie as “jukstaposisie van teenstrydighede” in Baker se oeuvre (Pretorius 1992:190). Hiermee kom ’n deurlopende “leitmotief in haar werk” tot stand, naamlik die “onwaarskynlikheid van wat kan gebeur” (Pelser 2002:6), maar ook die “onkenbaarheid van die werklikheid en die onvoorspelbaarheid van die toekoms” (D. van Zyl 2006:209). De Vries (1975:19) bevestig dat “Baker se romanwêreld inderwaarheid ’n romanwêreld [is]”; dat dit nie bloot net ’n “kopie van die daaglikse lewe is nie”, maar dat haar lesers te doen het met die dikwels onwerklike van die werklikheid. Sodanige roman ontstaan deurdat Baker “kontras en konflik tussen die nugtere realisme en ’n droomwerklikheid” skep (D. van Zyl 2006:209). Ondanks die humor word haar lesers telkens herinner dat dit wat hulle lees, ’n “roman is en nie die realiteit wat dit voorgee om weer te gee nie” (Pretorius 1992:2). Met ’n deurlopend humoristiese aanslag veroorsaak Baker ’n “konstante wisselwerking […] tussen die skyn van die lewe en die realiteit van die kuns” (Pretorius 1992:2). In Die kwart-voor-sewe-lelie is daar dus veel meer verskuil agter die humor en ironie as bloot net nog ’n ligte “damesromannetjie”. Hambidge (1989:10) wys daarop dat “Baker […] bedrewe [goël] met konvensies” en verklaar dat Baker se “damesroman met ironiese sousie imponeer”. Baker het haar lewensbeskouing – dit wat sy oor vrouwees wou “sê” binne ironie en veral humor as struktuurelement (veral) met hierdie teks verskuil. Wanneer Baker dan G.K. Chesterton aanhaal: “Angels can fly because they take themselves lightly” en as motto van Die kwart-voor-sewe-lelie gebruik, staan sy waarskynlik ook as “kunstenaar apart van [haar] werk”, maar probeer sy ook “terselfdertyd om [haar] bewustheid van [haar] ironiese posisie in die werk te inkorporeer” (Pretorius 1992:190). Opvallend gebruik Van der Vyver in haar bekroonde Griet skryf ’n sprokie (1992) ’n paar jaar na die verskyning van Die kwart-voor-sewe-lelie (1988) – ook met ’n humoristiese verteltrant – ’n verwysing na engele. Anders as Van der Vyver met Griet, kon Baker gedurende die 1980’s nie met Die kwart-voor-sewe-lelie (1988) slaag om ’n normdeurbrekende teks te lewer nie.

Die uitroep van die hoofkarakter Iris: “[N]iemand wil ooit na my luister nie”, en die hoofkarakter se naam word metafories van Baker se pogings om waarskynlik bewustelik vir die hekwagters van daardie periode te vra “om met nuwe oë” – met die periode se veranderende literatuuropvattings wat veronderstel is om polifonies te wees; wat veronderstel was om weg te doen met patriargale sienings – na haar “ernstige” skryfwerk te kyk. Ironies word hiérdie ernstige teks van Baker al vir langer as die afgelope dekade landwyd in Suid-Afrika as voorgeskrewe werk vir Afrikaans (Huistaal) vir Graad 12-leerders voorgeskryf.

3.5 Verbeelde werklikheid (1996)

As ek my eie naam gebruik sal ek anders skryf [...]. My eie naam sal ek gebruik om te vertel hoe dit is. 

So sê Sophia (betekenis: wysheid) die hoofkarakter, ’n vroueskrywer. Sy skryf ’n liefdesverhaal terwyl sy haar daaglikse pligte van kinders grootmaak, huishou en om ’n huweliksmaat te wees, nakom. Maar tussendeur sonder sy haar af om te skryf. Haar man, Gert, vra uiteindelik vir ’n egskeiding. Sy besef dat dié werklikheid nie in haar fiksie inpas nie en waarsku Gert dat sy buite-egtelike verhouding nie die einde kan hê waarvan hy droom nie. Háár werklikheid skryf sy dan in haar droomstorie – ’n sprokieshuwelik – in.

Hierdie teks, wat deur Viljoen (1996:38) as ’n “ontvlugtingsroman” beskryf word, verskyn bykans ’n dekade na Weerkaatsings (1984). Verbeelde werklikheid word soos ’n verlengstuk van Weerkaatsings, asof Baker die noodsaak van ’n slot vir Weerkaatsings wil bevestig. Met Verbeelde werklikheid slaag sy daarin om ’n “boeiende verhouding tussen fiksie en werklikheid” te skep (Kannemeyer 1996:31). Volgens Viljoen (1996:38) vind die “metafiksionele tematiek” in hierdie verhaal “gestalte”, en wel “in die onderhoudend-vertelde verhaal van Sophia wat die rol van huisvrou kombineer met dié van skrywer van populêre ontspanningsromans”. “Die ideale wêreld” vir die vrou soos daargestel deur ’n fiktiewe vroueskrywer word die “weerkaatsing” van die “prosaïese werklikheid” van die vrou se alledaagse bestaan. Sophia is, soos haar naam aandui, ’n wyse vrou wat verteenwoordigend is van die vroue wat Baker telkens as hoofkarakters skep: “’n intelligente en gegradueerde vrou” (D. van Zyl 2015:325). Sy is ’n ma en skrywer wat van haar daaglikse bestaan ontvlug deur die lewe van Elizabeth (’n naamkeuse wat terugverwys na Baker se hoofkarakter Lize (betekenis: die perfekte) in Weerkaatsings), die hoofkarakter in die roman wat sy, Sophia, besig is om te skryf.

Die roman funksioneer op twee vlakke: die sosiale werklikhede waarmee vroue te doen kry enersyds, en andersyds die onderskeid tussen werklikheid en fiksie as deel van die skryfproses. Fiksie en werklikheid word nie net weerkaatsings van mekaar nie, maar “die skepper van die geskepte teks” maak ook “inbreuk op die werklikheid”. Met hierdie teks bevestig Baker dat “dit wat in die roman as fiksie aangebied word dikwels trekke van die realiteit” vertoon (D. van Zyl 2006:212 en kyk ook Kannemeyer 1996:31). Die “ineenstrengeling tussen Baker-as-skrywer en haar karakter Sophia die skrywer” (D. van Zyl 2015:323) is ’n dualiteit wat kenmerkend van Baker se skrywersloopbaan word: “As ek my eie naam gebruik, sal ek anders skryf” (Baker 1996:180). Hierdie uitspraak kon net sowel dié van Baker self gewees het wat, naas werke onder ’n skuilnaam, ook ernstige tekste onder haar eie naam, Eleanor Baker gepubliseer het. Die gebruik van pseudonieme is ’n belangrike aspek van selfvoorstelling. In ’n poging om ’n onderskeibare, herkenbare openbare beeld te bekom, maak skrywers soms van ’n pseudoniem gebruik (Meizoz 2010:84). Vir Meizoz verwys ’n pseudoniem na die openbare selfbeeld van ’n skrywer wat, volgens Viljoen (2019, s.bl.), vergelykbaar is met ’n bepaalde persona, “’n term wat oorspronklik verwys het na die masker wat akteurs op die verhoog gedra het en wat etimologies verband hou met die nosie ‘van waar/waardeur ’n mens spreek’”. In die spel genaamd “[p]ubliseer, publisiteit, publiek” (De Jager 1993b:4) maak skrywers dus dikwels van sodanige “maskers” gebruik (Erasmus-Alt 2019:67): 

Etienne Leroux se eenrigtingsonbril; die smetlose gesig van Garbo. Die groot Portugese digter Pessoa het dié effek geantisipeer, en deel van hom gemaak deur hierdie naam aan te neem wat persona of masker beteken, en natuurlik persoon: ’n Gesig vir elke figuur wat hy slaan.

Dit word duidelik dat die woorde van Sophia in hierdie teks, “[M]y eie naam sal ek gebruik om te vertel hoe dit is” (Baker 1996:180), ’n intertekstuele poëtikale uitspraak van Baker die konkrete outeur self is; dus inderwaarheid ’n bekendmaking of selfs verklaring van Baker die skrywer self. Baker se hoofkarakter se naam Sophia word metafories van die konkrete outeur se “wysheid”, want Verbeelde werklikheid sluit af “wanneer die mees sprokiesagtige moment bereik word – die happily ever after by die see” (Brink 1984:17) en Sophia die skryfster, die vroulike karakter (en ek-verteller) ter wille van die sprokie die “verdeling tussen werklikheid en verbeelding” beëindig (Viljoen 1996:38). Een van Baker se “sêgoed” was: “Op ’n manier ‘word’ ek die hoofkarakter in die meeste van my boeke, of ten minste die kanaal waardeur die hoofkarakter sy/haar storie vertel en wanneer dit eers gebeur weet ek eenvoudig hoe hulle sal optree, dis nie nodig om na te vors nie.”

Met hierdie teks word bevestig dat Baker haar skryfwerk gebruik om ’n spesifieke standpunt ten opsigte van die wese van vrouwees te maak en dat dit by uitstek ’n openbaring van haar persoonlike identiteit is. Eie aan die nomadiese teorie beweeg Baker met hierdie teks “between communicating states or experiences as if some experiences were evocative of and resonated with others. This ability to flow from one set of experiences to another is a quality of inter-connectedness” (Fenoulhet 2003:8).

Deur die gebruik van ’n metateks kom twee stories in Verbeelde werklikheid tot stand. Beide stories – fiksie en werklikheid – word op die een of ander vlak ’n weergawe van vroue se alledaagse bestaan: ’n spel tussen fiksie en werklikheid. Binne die raamwerk van Baker se oeuvre as geheel kan Verbeelde werklikheid gesien word as ’n versnellingspunt van die nomadiese subjek – haar strewe na ’n ander vorm van vrouwees binne die huwelik. Deur die gebruik van die metateks – ’n metanarratiewe procédé – sluit sy uiteindelik aan by die literêre gebeure/neiging van die dekade. Ontbloting van die waarheid, die werklikheid ook van die vrou se bestaan – iets waarmee Baker eintlik sedert haar debuut in die 1970’s besig was – word nou ook deel van wat ander Afrikaanse vroueskrywers wil “sê” ; ’n algemene “tematiek” waaroor daar (nou) geskryf word. Tekste deur vroue waarin die strewe na emansipasie van die vrou voorop staan, word eers gedurende die 1990’s ’n algemene verskynsel in die Afrikaanse literatuursisteem. Noudat ander vroueskrywers ook aktief oor vrouwees skryf en dit as ’n algemene neiging binne die literatuursisteem aanvaar word, verkry “skryf as nomadiese subjek” vir Baker ’n momentum wat hierna duidelik in haar skryfwerk bespeur word.

3.6 Groot duiwels dood (1998)

Julle het van my vereis om sterk te wees, nou kan jy my nie weer verswak nie!

Cornelia (betekenis: om sterk te wees), ’n boervrou, bevind haar in ’n konsentrasiekamp terwyl haar man in die Anglo-Boereoorlog veg. Die lyding en ontberinge wat sy hier ervaar, noodsaak haar om sterk en wys te wees. Die skryf van briewe laat haar besef dat sy deur hierdie ervarings mans se verantwoordelikhede oorgeneem het. Sy begeer erkenning daarvoor en besluit om nooit weer onderdanig aan enige iemand te wees nie. 

Aanvanklik wil dit voorkom of Baker, soos Scholtz (1999:26) dit in ’n onderhoud met haar dit stel, “saamry op die Anglo-Boereoorlog herdenkingswa”. Alhoewel W. van Zyl (1999:18) verklaar dat Baker aansluit “by die hedendaagse vroue-literatuur”, wil dit eerder voorkom of ánder vroueskrywers aansluit by Baker se nomadiese subjek van vrouwees. Weer eens word “die wesenlike onbegrip tussen manlike en vroulike belewing van die werklikheid” in die roman verwoord (Lategan 1999:8). Die oorsprong van hierdie onbegrip spruit voort uit die posisionering van mans teenoor vroue en vroue teenoor mans – stereotipering op grond van geslag. Baker maak doelbewus seker dat haar lesers kennis neem van die geslagsongelykheid tussen mans en vroue. Haar eie lewenservaring maak dit vir Baker, die konkrete outeur, moontlik om behendig met “skryf as nomadiese subjek” te kan sê wat sy “wil” sê. Hierdie skrywersaanslag dui volgens Fenoulhet (2003:6) op “the beginning of nomadic wisdom” – ’n teken van wysheid ten opsigte van vrouwees wat nou duidelik in Baker se werk reflekteer word. 

Met Groot duiwels dood val dit op “dat die meeste voorstellings van mans verband hou met die onreg wat mans vroue aangedoen het” (Coetzer 2001:4). Baker spreek haar sterk uit teen die verontregting van vroue deur mans; sodanig dat die teks openlik én ooglopend feministiese uitsprake bevat. Die uitwerking van veranderde sosiopolitieke magstrukture teen die einde van die eeu word hiermee duidelik in Baker se werk weerspieël. In die onderhoud met Scholtz verklaar Baker: “Oorlog was in 1899 inderdaad iets wat net mans gedoen (sic) het, maar Milner en Kitchener – twee ongetroude mans, die een ’n geboekstaafde vrouehater – het die reëls verander en vir die eerste keer ’n reeds oneerlike oorlog (vraatsug na goud) geswaai (sic) tot ’n immorele een wat teen vroue en kinders gevoer is in ’n poging om die mans tot oorgawe te dwing” (Scholtz 1999:26).

Hierdie is nie ’n verhaal wat handel oor wat op “die groot (manlike) arenas van die wêreldpolitiek of slagvelde gebeur het nie”, maar vertel “eerder van die ontberings wat die vroue te beurt geval het as gevolg van hul mans se besluite om oorlog toe te gaan” (Wasserman 1998:14). Verder bied die postmodernistiese literatuuropvattings van die 1990’s aan Baker die geleentheid om feministiese uitsprake te kan maak. Daarom kan met reg gesê word dat die verhaal “op ’n feministies getinte slot” (W. van Zyl 1999:18) afstuur. Aan die einde van Groot duiwels dood dring Cornelia – wat hier eintlik die hele volk se vroulike geslag verteenwoordig – op ’n mate van geslagsgelykheid aan: “Julle het van my vereis om sterk te wees, nou mag jy my nie weer verswak nie!” (Baker 1998:360).

3.7 ’n Ou begin (2001)

[...] mans is varke. 

Judith (oorsprong: Bybelverwysing, vrouekrag), ’n kombuisargitek (’n beroepskeuse vir haar vroulike karakter wat eintlik meer betekenisdraend is as wat aanvanklik besef is: Is die vrou se plek steeds net in die kombuis?) ontvang ’n boks briewe van haar ma voor haar vertrek om haarself êrens te gaan vind. Die briewe behoort aan haar voormoeder Hannie, briewe uit die 19de eeu. Weens probleme met haar motor beland sy op ’n Karoodorpie. Sy raak betrokke by die gemeenskap en die lees van die briewe maak haar bewus van verskille en ooreenkomste tussen die dorpsmense (die hede) en die lewe van Hannie (die verlede).

Die wese van die vrou as dié van ’n gewone mens word met ’n Ou begin ontbloot. Om begrip vir die vrou as gewone mens by die leser te skep, maak Baker gebruik van ’n hedendaagse vrou – die hoofkarakter Judith. Die naam Judith verkry in hierdie teks duidelik ’n metaforiese betekenis as verwysing na die krag van vroue of hoe sterk vroue kan wees (soos Judith wat verantwoordelik was vir die onthoofding van Holofernes). Die vroulike karakter Judith word in hierdie teks verteenwoordigend van die vroulike geslag. Wanneer Judith gedwing word om langer as wat sy beplan het op die Karoodorpie te vertoef, word beelde van die dominante magsposisie van mans (nou binne ’n demokratiese bestel) weer opgeroep en sien sy “die neigings van sommige mans om onbedagsaam en terselfdertyd veeleisend in ’n verhouding met ’n vrou op te tree” (Britz 2001:7) onder die gemeenskap van die Karoodorpie raak. As deel van ’n wegbreek van huis en haard – die alledaagse, maar ook van ’n gebroke huwelik – leer sy ook ander mense ken, veral vroue. Die fokus word geplaas op die hedendaagse vrou. Aspekte van vrouwees wat Baker deurentyd bevraagteken het, word deur die doen en late van karakters – vroue én mans en die verhouding wat daar tussen hulle bestaan, bevestig. In hierdie teks kry die werklikheid van die alledaagse bestaan weer betekenis vir Judith wanneer sy wil wegkom om te kyk wie sy is as sy nie ma en vrou is nie, maar die “verantwoordelikhede waarvan sy wou wegkom, raak egter gou weer deel van Judith se lewe, sy besef dit is die moedergeen: sy moet altyd versorg. Sy besef dat natuurlike, eenvoudige en noodsaaklike dinge soos skottelgoedwas, ook belangrik is” (McKnight 2003:16–7). Om lewenswaarhede soos hierdie aan die leser oor te dra, benut Baker van die (narratiewe) kenmerke van ’n spesifieke subgenre, naamlik die briefroman.

Briewe verkry ’n betekenisbepalende rol in ’n Ou begin: Vroue se lewenswyse van 100 jaar gelede word deur middel van briewe deur die karakter van tant Hannie beskryf. Die inskryf van briewe as deel van die vertelling word deur Baker aangebied as ’n weerspieëling van die invloed van patriargale magstrukture op die samelewing. Ook verleen dit meerstemmigheid aan hierdie teks. Die uitwerking van verandering van magstrukture soos dit deur ’n verskeidenheid vroue vanaf die vroegste tye tot by die hedendaagse vrou ervaar is, word refleksies of weerkaatsings van mekaar. Sodoende word die briewe ’n “pronominale relatiwiteit” waar die hede teen die verlede afgespeel word (Botha 1992:49). Judith lees hierdie briewe van tant Hannie, en eie aan die briefroman help hierdie briewe die hedendaagse vrou (hier Judith) om perspektief op haar eie lewe te kry (vergelyk 18-44 van Etienne Leroux (1967) en Maritha van der Vyver se Dis koue kos, skat (2016)). 

Hierdie “briewe van voormoeder Hannie” speel vir Judith ’n belangrike rol in haar “reis na selfontdekking” (McKnight 2003:16), want tydens haar besoek aan hierdie Karoodorpie kom Judith gou agter dat “almal ’n storie het om te vertel” (McKnight 2003:16, 17). Deur ook na ander se stories te luister, word aangesluit “by Baker se bekende dictum dat ’n mens deur die interaksie met ander mense tot ’n volledige menslikheid kan groei” (Kannemeyer 2005:447). Die gebruik van briewe, enersyds as struktuurelement maar andersyds as ’n verdere vorm van nomadiese skryf, maak dit vir Baker moontlik om uitsluitsel te kry oor lewenswaarhede waarmee sy as konkrete outeur self, sowel as die hedendaagse vrou wroeg. Judith se selfontdekking word ’n metafoor van Baker se eie selfontdekking – deur “skryf as nomadiese subjek” word dit dus vir Baker moontlik om te “sê” dat die strewe na ’n ander identiteit van vrouwees nog altyd daar was – dat dit van geslag tot geslag oorgedra word; dat dit iets is waarna vroue as ’n sosiale groepering nog altyd gestreef het; andersyds dat vroue se “menswees” (nou) erken moet word. ’n Geleidelike proses van ontwikkeling tot volledige menswees is besig om plaas te vind. So word “[d]ie herbesoek aan gebeure van die verlede” deur Baker “intens verweef […] met die belewenis van die hede” (Roos 2006:57).

Waar Baker in die verlede veral deur middel van vroulike karakters lewenswaarhede omtrent vrouwees openbaar het, word aspekte van “manwees” ook as deel van haar “skryf as nomadiese subjek” ingespan. In ’n Ou begin word ook die wese van die man as ’n gewone mens ontbloot. Deur die teks posisioneer Baker die vrou “in die onderskrywing van houdings en waardes oor die huwelik, gesin en gemeenskap” (Coetzer 2001:4). Die dominante magsposisie van die man in die huwelik en in die gemeenskap soos wat dit in die verlede voorgekom het, word in hierdie teks uitermatig sterk gekritiseer. Veranderende sienings ten opsigte die vroeëre ideologies daargestelde patriargale grense bied nou aan vroue onder andere vryheid van spraak wat dit vir Judith moontlik maak om te “mans is varke”. As deel van die vertelling word die uitwerking van veranderde magstrukture ook in die verhoudings tussen mans en vroue verbeeld en weerspieël. Deur mans se dominante posisie in die huwelik met ’n sweempie oordrewenheid te beskryf, slaag Baker daarin om “die wesenlike onbegrip tussen manlike en vroulike belewing van die werklikheid” (Lategan 1999:8) te bevestig. 

Die titel, ’n Ou begin, word ’n oksimoron van die hoofkarakter se ervaring. Alhoewel Judith probeer wegkom van haar omstandighede by die huis, ’n nuwe “begin” wil maak, tref dit haar dat die “ou” gewoontes van mans steeds nog bestaan. Waar die fokus in Baker se vorige tekste slegs op die ontbloting van haar vroulike karakters was, sien ons met hierdie teks hoe daar as ’t ware ’n geleidelike proses van verandering van Baker se skrywersoptrede plaasvind en sy nie meer daarvan wegskram om feministiese uitsprake te maak nie – ’n tipiese kenmerk van nomadiese skryf.

3.8 Die ander Marta (2002)

Ek is nou ’n ander Marta. Nie meer ’n dienende een nie, verstaan jy? ’n Ander een. Ek laat my nie meer voorsê of vertrap nie; as daar nou voete gewas word is, is dit myne.

Marta (betekenis: om te dien) is ’n middeljarige boervrou. Sy voel afgemat, verneder en minderwaardig. Vir haar huisvroulewe en al die pligte wat daarmee gepaard gaan, én om vrou van ’n ware boer in murg en been – Hendrik – te wees, sien Marta nie meer kans nie. Sy besluit om haar alledaagse bestaan te beëindig. Sy vat haar man se motor en ry na die Weskus, waar haar selfdoodpoging misluk. ’n Vissersgemeenskap bied vir haar werk, nuwe vriendskappe en lewenshoop. Op die plaas besef Hendrik met die hulp van ’n susterskind, Dead Ice (alles behalwe die tradisionele gestereotipeerde Afrikanervrou), wat Marta as vrou vir hom beteken. Die tydelike skeiding bring vir beide Marta en Hendrik nuwe insigte omtrent die huwelik.

Asof sy “verskillende skakerings van menslike verhoudings” binne die huwelik as patriargale instelling wil uitklaar, skep Baker Die ander Marta. Hier word skynwaarhede oor die sprokiesagtige einde van “soetsappige liefdesverhale – dit wat van ’n sprokie ’n sprokie maak; die valsheid van ‘and they lived happily ever after’” en “die storie van die held en heldin meer as dertig jaar na die troudag” – deur Baker ontrafel, onthul (Lategan 2003:4) én ondermyn. Baker lewer hiermee metafiksionele kommentaar op haar eie oeuvre en die sentrale plek van die liefdesverhaal daarin. Binne die raamwerk van Baker se laaste ernstige roman word bevestig hoe die minderwaardige posisie van die vrou binne die huwelik nog altyd as vanselfsprekend aanvaar is. Die “kwade gevolg van chauvinistiese mans se gestereotipeerde perspektief op vroue” word hiér egter uitgeklaar (D. van Zyl 2006:214). Baker, die konkrete outeur, gebruik karaktersubjektiwiteit om te verduidelik wat nog altyd binne die patriargale bestel van die Afrikanervrou verwag is. Met haar laaste ernstige teks gebruik Baker haar (laaste) vroulike hoofkarakter Marta as spreekbuis om as ’t ware namens geslagte Afrikanervroue te “sê” wat sy, Baker, deur nomadiese skryf wou “sê”:

“Mans hou nie van beterweterige meisies nie. ’n Wysneus. Jy moet altyd die mindere wees, hom goed laat voel.”
“Hoekom?”
“Jy is die een wat baat. As hy goed voel, hanteer hy jou mooi.” (22)

“Jy het ’n goeie brein aan jou,” het haar ma voortgegaan. “Dis belangriker as ’n wulpse lyf.”
“Ek dog Ma sê nou net ek moet my brein wegsteek,” het sy liggies spottend gesê.
Haar ma was onthuts. “Nee, dis nie ... ja, wel, ek het net gesê jy moenie daarmee te koop loop nie. Mans wil nie minderwaardig voel nie. Jy moet hom te alle tye laat dink dat hy die sterkste en slimste is.” (23)

“Martie,” het haar ma gesug. “Wat is dit vanaand met jou? Ek probeer jou raad gee. Dis nodig vir jou toekomstige geluk dat jy verstaan hoe dit werk. As jy eendag geluk wil vind, moet jy nou al leer om die mindere te wees.” Die gesprek het Marta verwar en frustreer. Haar ma het geïmpliseer dat seuns en mans op die een of ander wyse gestremd is. Hulle het spesiale behandeling nodig; die erkenning van iets so basies, so eenvoudigs as dat ’n vrou ook ’n brein het, kan hulle van balans afgooi. (24)

Anker (2007:26–27) wys daarop dat die skrywer eie aan nomadiese skryf ander “bestaansmoontlikhede” ondersoek; dat nomadiese denke “’n lewe buite die grense van ’n moderne identiteitsbesef” moontlik maak. In hierdie laaste ernstige roman van Baker word die uitbeelding van die vrou as die “dienende” Marta in die tipiese Afrikaanse tradisionele plaasroman (Van Coller 1995:29 en Human-Nel 2009:148) geleidelik vervang met ’n “ander” Marta. Binne die Afrikaanse literatuursisteem was die leitmotief van die dienende Marta baie lank gebruik om liefde as bindingsmiddel van die huwelik gelyk te stel aan dienslewering deur die vrou aan haar man, kinders, huis en die kerk. Die al wordende “ander” Marta is nie die tradisioneel dienende vrou nie; dié Marta daag die tradisionele een uit en val haar aan. Aanvanklik word aangedui dat Marta ook deel van ’n geslag vroue was “wat deur sekere organisasies en die kerk gebreinspoel is om hul plek te ken” (Jansen 2003:9). In ’n “opheffende praatjie van die VLV leer sy die deugde van ’n goeie vrou: selfontkennend, altyd die mindere wat nie argumenteer of rusie maak of haar laat geld nie. Die vrou leer dat mans voor in die motor sit en die vrou agter. Mans mag maar op hulle vroue skreeu en met hulle praat asof hulle dom is. Dit is die vrou se plig om dit maar af te lag” (Jansen 2003:9). Die leser word binne die raamwerk van dié roman funksioneel daaraan herinner hoe die minderwaardige posisie van die vrou binne die huwelik nog altyd as vanselfsprekend aanvaar is. Hierdie Marta poog om haarself te versoen met waarhede wat ’n huwelik van 30 jaar met haar man (Hendrik) vir haar inhou. Maar na 30 jaar se huwelik is die enigste wegkomkans uit hierdie menslike verhouding vir Marta selfdood – ’n daadwerklike poging om van die tradisionele en gestereotipeerde Afrikanervrou weg te breek. Dit is egter nie deur ’n onsuksesvolle verdrinking as selfdoodpoging alleen dat Marta ’n tweede geleentheid op die lewe kry nie. Marta loop letterlik weg van die plaas en beland by ’n bruin gemeenskap aan die Weskus waar haar “perspektief op verhoudings verruim” (D. van Zyl 2015:325). In hierdie stadium van die vertelling kom die leser tot die insig dat hier sprake van ’n “ander” Marta is – hiérdie Marta weier om net maar altyd te dien. 

In vroeëre tekste van Baker was daar wel duidelike aanduidings dat vroulike karakters wou wegbreek van hul tradisionele rol as dienende Martas. Pogings om daargestelde grense van die patriargale bestel te oorskry, was egter nie altyd suksesvol nie: Alreeds in Monica (1978) word pogings om weg te beweeg van stabiele identiteite aangetref. Johl (1978:7) dui aan dat “die verhaal dié van ’n eensame huisvrou” is wat “vasgevang is tussen die verveeldheid van haar daaglikse bestaan” en “byna obsessionele vrees vir ledigheid, vir die moontlikheid dat haar ma se geskiedenis in haar herhaal kan word”.

Gedurende ’n onderhoud met Krüger (1986) verklaar Baker dat die vrou se mindere posisie in Suid-Afrika dikwels haar eie skuld is: Sy “klou aan haar tradisionele rol” en kan nie “verby haar grense [...] kyk” nie (leesgids in Baker 2008:253–4). Eers met Die ander Marta word daar inderdaad weggebreek van die tradisionele konvensies van die huwelik. Om “nuutgebore” (Baker 2002:249) te word, is dit volgens Marta ook nodig om vryheid van spraak te kan hê, want “aan die wortel van hierdie verhoudinge lê die onvermoë om genoegsaam en toereikend te kommunikeer” (Lategan 2003:4): “Marta se keelseer word simbolies van wat met vroue gebeur wat swyg: die liggaam rebelleer” (Jansen 2003:9). Marta sê: “Ek weet ek moes gepraat het. Teruggepraat het. My sê gesê het in plaas daarvan om my mond toe te stop met kos. Ek het gedink ’n goeie vrou doen dit nie en ek was verkeerd. Jy moet verstaan dat ek kan dink en besluit, ek is nie net aan jou sy om altyd die minste te wees nie” (248).

Ontwikkeling rondom vryheid van spraak en die werklikheid van wat vrouwees werklik vir die vrou inhou, word deel van ’n kousaliteitsverskynsel. Met Die ander Marta dui Baker aan dat veranderende sienings ten opsigte  van vrouwees dit vir die vrou van die 21ste eeu moontlik maak om nie net te droom van ’n ander lewe buite die huis nie, maar bevry te raak om as ’n veranderde Marta terug te keer na haar huis, maar nou waar Marta en Hendrik – man en vrou as gelykes in die huwelik – skuiling kan vind. Die slotsom is dat die bevryding van die individu binne ’n bevryde gemeenskap moontlik is. Baker bevestig vanuit haar eie lewensbeskouing met Die ander Marta dat indien die waarheid rondom menslike verhoudinge nie ontbloot word deur daaroor te kommunikeer nie, dit vir individue moeilik is om met die werklikhede van die lewe saam te leef.

Met Die ander Marta word dit waarna die nomadiese subjek – ’n ander vorm van vrouwees – gestreef het, bereik. Die wordingsproses – “becoming” – word as ’t ware voltooi. Die feministiese ingesteldheid wat aanvanklik nie aanwesig was in Baker se tekste nie, ontwikkel geleidelik deur haar gebruik van karaktersubjektiwiteit; vanaf die aanvanklike afwysing van feministiese sienings ten gunste van die aanvaarding van die tradisionele patriargale oorheersing van die man oor die vrou, na die uiteindelike vind van ’n selfstandige identiteit wat die “ander” Marta (nou) vir haar opeis; selfs die vind van ’n balans waar sy binne die huwelik tot haar reg kom.

Dit is asof Baker berusting vind – iets wat egter binne die nomadiese teorie van Braidotti nie aanvaarbaar sou wees nie. Deur haar bemoeienis met die onderdrukte posisie waarin die vrou in die algemeen haar steeds gedurende veral die laaste drie dekades van die 20ste eeu bevind het (Du Plooy en Viljoen 1992:34), het Baker saam met baie ander vroueskrywers aangesluit by ’n veranderende perspektief op feminisme. Sedert die negentigerjare het die fokus begin val op ’n ander/nuwe vrou waar daar nie meer slegs ’n “enkele betekenis” aan vrouwees geheg is nie (Van Niekerk 1999:422; Human-Nel 2009:273). Beukes en Gouws (1998/1999:90) sluit ook aan by Braidotti se siening van genealogie deur aan te dui dat “[d]ie nuwe vrou se menswees [...] ervaar [word] in terme van haar vrouwees, want ’n voltooidheid bestaan sonder die noodwendige aanwesigheid van die man. Ginogenese behels nie verabsolutering van seksualiteit as eenheidsvormer nie, maar ’n integrasie daarvan met alle fasette van menswees.”

Die voorbladillustrasie van Die ander Marta dui aan dat Marta “iemand is wat uiteindelik haar arms oopgooi vir die lewe” (Lategan 2003:4). Hierdie illustrasie dra by tot dit wat Baker deur die teks by die voornemende leser wil tuisbring, naamlik die wegbreek van hierdie vrou uit haar tradisionele patriargale omstandighede. Dit is ’n poging tot bevryding – emansipasie – van haarself, die konkrete outeur in haar persoonlike verhoudings, maar ook as vroueskrywer in die Afrikaanse literatuursisteem. Met Die ander Marta word lewenswaarhede nie meer onder die deklaag van ironie verskuil nie en word die waarheid oor werklikhede binne die huwelik nie meer agter ’n sprokie versteek nie. Hierdie ontbloting word aangebied met ’n humoristiese aanslag wat bevestig dat “angels can fly because they take themselves lightly”. Daarom word dit vir Marta – as verteenwoordiger van die vroulike geslag as sosiale groepering – moontlik om deur ander mense (wat soos engele in haar lewe inkom) genees te word en terug te keer na haar man, haar huis en die huwelik as die moreel korrekte waardesisteem. Uiteindelik word ’n stadium in Baker se “skryf as nomadiese subjek” bereik waar die grens van vrouwees deur haar menswees bepaal word. 

Baker dui aan dat hierdie bevryde Marta daarin slaag om wel die grense wat deur die patriargie daargestel is, te oorskry. Deur die gebruik van haar altyd teenwoordige humor, en soveel te meer in Die ander Marta, kry Baker dit nou reg om die (Suid-) Afrikaanse vrou te oortuig om na haar “te luister”; om te besef dat “dié vrou se mindere posisie in Suid-Afrika dikwels haar eie skuld is” omdat sy “klou aan haar tradisionele rol” en daarom “nie verby haar grense [kon] kyk nie” (Krüger 1986:80). Binne ’n Afrikaanse literatuursisteem wat nou “polifonies van aard” is (Van Coller 2006:x) word dit vir Baker moontlik om met Die ander Marta einde ten laaste te “skryf wat sy wou, hoe sy wou en wanneer sy wou” (Baker in ’n onderhoud met Scholtz 1999:26).

 

4. Ten slotte

“Ek kan net skryf as ek betrokke is – as ek vere voel vir ’n ding, moet ek maar laat staan. Ek voel ook dat ek ’n hekel daaraan het om doelbewus modern te wees, […]. Ek gaan nie meedoen aan enige mode nie. Natuurlik moet ’n mens getrou wees; jy moet sê wat jy moet sê.” (Baker in Kruger 1974)

Vroeg reeds in haar skrywersloopbaan kies Baker om oor haar eie alledaagse lewe as vrou te skryf. Dié gebruik van “vroulike tematiek” het daartoe bygedra dat Baker ondanks poëtikale besware en heersende literatuuropvattings alreeds in die 1970’s patriargale grense oorskry het. Sodoende het sy inderdaad die sentrum van die Afrikaanse literatuursisteem, die literêre kanon, uitgedaag. Sy het goed geweet dat haar temas nie sommer sito-sito binne die Afrikaanse literatuursisteem aanvaar gaan word nie. Aanvanklik het sy tog strategies te werk gegaan deur haar ernstige literêre werk te skryf op wyses wat vir hekwagters aanvaarbaar sou wees: meer eksperimenteel, meer betrokke, meer “feministies” (vol kritiek op mans), meer humoristies en al hoe meer deurbrekend ten opsigte van sosiale en literêre grense. 

Deur die gebruik van karaktersubjektiwiteit as deel van nomadiese skryf stel Baker haar vroulike hoofkarakters aan die woord om haar eie standpunt oor die vrou se posisie in die samelewing oor te dra. Van Coller (2001:135) beklemtoon “dat ‘spreek en skryf altyd persoonlik is’” en dat die skrywer, in dié geval Baker, haar “belangstelling” en “kyk op sake ‘verraai’”. Deur die begrip nomadiese skryf as teoretiese invalshoek te gebruik, was dit moontlik om met nuwe denkwyses en nuwe bestaansmoontlikhede (kyk Anker 2007:29–31) Baker se veranderende sienings ten opsigte van vrouwees te bespreek en te volg. Vroulike subjektiwiteit maak dit eerstens vir Baker die konkrete outeur moontlik om haarself te ontdek. Een van Baker se “sêgoed” was: “As ek nie skryf nie, is die werklikheid nie vir my vreeslik aanvaarbaar nie, maar as ek besig is met ’n nuwe boek, het alles wat ek doen sin.”

Deur te doen wat sy graag doen, naamlik skryf, kan Baker wat sy graag wil “sê”. Die gebruik van vroulike hoofkarakters maak dit vir haar moontlik om self as konkrete persoon deur verskillende fases van verandering te gaan: “‘Becoming’ is never just reproduction or imitation. Becoming entails movements, vibrations, and threshold-crossings” (Fenoulhet 2010:12–3). Ook word aangesluit by die teorie van Van Gennep (1908) waarvolgens “’n soeke na die sin van die lewe en die ontdekking van die self” ook veronderstel om “’n grensoorskrydende, transformerende losmakingsproses” te wees (soos na verwys in Erasmus-Alt 2016:xv). Baker verwoord hierdie wordingsproses wat sy as konkrete outeur as deel van haar ernstige tekste beskryf onder die dekmantel van ’n humoristiese aanslag. Dit lewer ’n noodsaaklike bydrae tot Baker se eie soeke na ’n nuwe identiteit. 

In As ’n pou kon vlieg. ’n Verblyfboek oor Teheran (1980) beskryf Baker hoe sy by die lessenaar in die een hoek van die kombuis aan Monica (1978) gesit en skryf het. Na sodanige onttrekking of afsondering – hier om sonder enige steurnis te kan skryf – word dikwels verwys as liminaliteit, ’n fase wat die begin van ’n proses van verandering aandui. Verdere pogings om grense te oorskry kom ook duidelik na vore in Baker se ontvlugtingsroman Verbeelde werklikheid (1996). Baker erken in ’n stadium in ’n onderhoud dat sy self nie van “haar werklikheid” hou nie en so ook nie die karakter Sophia (wat ook skryf) nie; dat die literatuur gebruik word om ’n ander werklikheid in fiksie te skep. Botha (1996:12) wys daarop dat dit “Baker self is wat haar deur die gekose motto lewensbeskoulik verbind aan T.S. Eliot se ‘[…]  humankind / Cannot bear very much reality’ – Burnt Norton”. Aansluitend by Nomadic theory. The portable Rosi Braidotti (2012) se teoretiese benadering van die nomadiese subjek – “becoming” – word bevestig dat Baker uit eie lewenservaring haar boodskap aan waarskynlike lesers stuur. Dit wat sy sê of gesê het, was gegrond op haar eie bestaan as “nomade” in haar strewe na ’n ander identiteit van vrouwees. As interessante geval van marginalisering word haar eie skrywersloopbaan die voedingsbron vir haar sentraal stel van die nomadiese posisie van die vrou. Verbeelde werklikheid word ’n “geheime kykie” (Grobler 1996:29), nie net na hoe Sophia as skryfster te werk gaan nie, maar ook hoe Baker die konkrete skrywer haar skryfwerk benader; tot ’n mate van grensoorskryding en wel om in die verbeelding ’n ander vorm van vrouwees te ervaar – om net maar ’n gevoel te kry van hoe dit sal wees om bevry van die alledaagse bestaan te wees. Deur van die metaroman gebruik te maak, maak Baker haar lesers as ‘t ware ’n deel van haar skryfproses – ook van haar eie lewensbeskouing as konkrete outeur. Metafiksie, “naamlik die skryf oor die aard van die skryfproses” (Viljoen 1996:38), lei die lesers “in ’n kamer van spieëls” (Hambidge 1992:294) sodat “die vrou se lewe in ’n spieël gesien” word (Van Biljon 1996:11).

Vroulike subjektiwiteit in haar 15 ernstige tekste was egter ook bepalend ten opsigte van haar plek in die Afrikaanse literatuursisteem. Die uitwerking van veranderende literatuuropvattings gedurende die 30 jaar van haar skrywersloopbaan was dat die konkrete outeur daarop uit was om ernstige lesers en die sogenaamde hekwagters (literêre kritici) te manipuleer ten einde vir haar ’n plek in die literêre kanon te probeer verwerf. Baker was deeglik bewus daarvan dat sy uitgelewer was aan hekwagters; dat dit wat en waaroor sy geskryf het – die alledaagse sleur van die vrou se lewe asook die romantisering dáárvan – nie (altyd) binne die raamwerk van literatuuropvattings van die hekwagters van die tyd/periode geval het nie. As deel van ’n agternaperspektief op die werk én lewe van Baker haal Terblanche (2016) een van haar “sêgoed” aan: “Om ’n boek te skryf, beteken jy stel jou bloot en lok ander mense se opinies uit.”

Dit word duidelik dat Baker die daargestelde norme (soms of dikwels) bloot oorgesien of verontagsaam het. Baker was openlik oor haar opinie omtrent dit waaroor sy geskryf het. Ondanks die feit dat sy deeglik daarvan bewus was dat haar insluiting by of uitsluiting van die Afrikaanse literêre kanon onder andere van sekere norme en/of literatuuropvattings afgehang het, het sy aangehou om te skryf soos sy wou en oor wat sy wou. Hoewel Baker vanweë haar man se werk as diplomaat dikwels rondbeweeg het, is dit nie beweging as sodanig wat die kern van “skryf as nomadiese subjek” is nie; soos afgelei kan word uit Rayner (2013) se samevatting van Deleuze en Guattari (2003) se begrip nomadisme: “[I]t doesn’t require moving around. You can sit still and be a nomad.” “Skryf as ’n nomadiese subjek” is in wese ’n verset teen (vaste) kategorisering deur ’n bewuste keuse vir verandering en beweging. Vanselfsprekend is dit ook ’n dekonstruering van manlike sienings van “vroulikheid” en vroulike onderhorigheid.

Laastens word met hierdie artikel bekragtig dat Eleanor Baker deur haar eie kop te volg, daarin slaag om ’n toeganklike kanaal vir die gewone leser te skep waarmee ook hiérdie leser die Afrikaanse literêre kanon kon en steeds kan betree. ’n Herwaardering van dié gemarginaliseerde vroueskrywer was dus noodsaaklik, want daardeur word die krag van haar geskrewe woord bevestig – dat dit wat sy deur skryf gesê het, nie net die gewone leser nie, maar ook die literêr-georiënteerde leser aangegryp het: “Nomadism is a cultural norm. While plenty of people want to ‘fit in’, the best and the brightest want to break out and head for the horizon” (Rayner 2013).

 

Bibliografie

Anker, W.P.P. 2007. Die nomadiese self: Skisoanalitiese beskouing oor karaktersubjektiwiteit in die prosawerk van Alexander Strachan en Breyten Breytenbach. PhD-proefskrif, Universiteit Stellenbosch.

Baker, E. 1972. Wêreld sonder einde. Johannesburg: Perskor.

—. 1973. Splinterspel. Johannesburg: Perskor.

—. 1975. Mørketiden. Johannesburg: Perskor.

—. 1978. Monica. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1980. As ’n pou kon vlieg. ’n Verblyfboek oor Teheran. Kaapstad: Tafelberg. 

—. 1981. ’n Geslote boek. Kaapstad: Tafelberg. 

—. 1984. Weerkaatsings: ’n sprokie. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 1985. Dossier van ’n gyseling. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 1988. Die kwart-voor-sewe-lelie. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 1991. In die middel van die Karoo. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 1996. Verbeelde werklikheid. Kaapstad: Human & Rousseau. 

—. 1998. Groot duiwels dood. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 2001. ’n Ou begin. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 2002. Die ander Marta. Kaapstad: Human & Rousseau. 

—. 2008. Die kwart-voor-sewe-lelie. Skooluitgawe met leesgids. Kaapstad: Human & Rousseau.

Baker, W. 2002. Ongepubliseerde toespraak oor Eleanor Baker. NALN se vierde Nasionale Leeskring-indaba. Woordfees 2002, Stellenbosch. 13 Maart. 

—. 2004a. E-pos-briefwisseling, 28 en 29 Februarie.

—. 2004b. E-pos-briefwisseling, 2 en 3 Maart.

Beukes, M. en T. Gouws. 1998/1999. Ginogenese as diskoers van mag – gestaltegewing van die Nuwe Vrou in Griet skryf ’n sprokie (Marita van der Vyver). Tydskrif vir Letterkunde, 36(4)/37(1):85–94. 

Beyers, S. 2000. Eleanor kom huis toe. Sarie, 28 Junie, ble. 60–1.

Botha, E. 1992. Briefroman. In Cloete (red.) 1992. 

—. 1996. Baker voer leser mee met humor, verfynde vaardigheid. Beeld, 26 Augustus, bl. 12.

—. 2002. Agterblad. Die ander Marta. Kaapstad: Human & Rousseau. 

Braidotti, R. 1994. Nomadic subjects. Embodiment and sexual difference in contemporary feminist theory. New York: Columbia University Press.

—. 2002a. Metamorphoses. Towards a materialist theory of becoming. Cambridge: Polity Press.

—. 2002b. Difference, diversity and nomadic subjectivity. http://women.ped.kun.nl/cbt/rosilecture.html (15 Julie 2016 geraadpleeg).

—. 2006. Transpositions. Cambridge: Polity Press. 

—. 2011a. Embodiment, sexual difference, and the nomadic subject. Hypatia, 8(1):1–13.

—. 2011b. Nomadic theory. The portable Rosi Braidotti. New York: Columbia University Press.

—. 2014. Writing as a nomadic subject. Comparative Critical Studies, 11(2/3):163–84.

Brink, A.P. 1978. ’n Bevestiging van die reg om te droom. Rapport, 18 Junie, bl. 17.

—. 1984. Só trap resensent darem nie modder op goeie, lekker boek nie! Rapport, 11 November, bl. 17.

—. 1988. Populêre en hogere literatuur. De Kat, Oktober, bl. 102. 

Britz, E. 1991. Wagtend op Geelgert. Rapport, 17 Maart, bl. 16.

—. 2001. Onder leesbaarheid lê diepte. Die Burger, 2 April, bl. 7.

Cloete, T.T. (red.). 1992. Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM-Literêr.

Coetzer, J. 2001. Met ’n vaardige hand beskryf. Beeld, 28 Mei, bl. 4. 

De Geest, D. 1996. Literatuur als systeem, literatuur als vertoog. Bouwstenen voor een functionalistische benadering van literaire verschijnselen. Leuven: Uitgeverij Peeters. 

—. 1997. System theory and discursivity. Canadian Review of Comparative Literature, 24(1):161–75. 

De Jong, M. 1992. Feminisme. In Cloete (red.) 1992.

Deleuze, G. 2006. Two regimes of madness. Texts and interviews 1975–1995. Vertaal deur A. Hodges en M. Taormina. New York: Semiotext(e). 

Deleuze, G. en F. Guattari. 2003a. Anti-Oedipus. Capitalism and schizophrenia. Vertaal deur R. Hurley, M. Seem en H.R. Lane. Minneapolis: University of Minnesota Press. 

—. 2003b. Kafka: Towards a minor literature. Vertaal deur D. Polan. Theory and History of Literature, 30:xxviii.

De Vries, A.H. 1975. ’n Gemengde dis. Die Burger, 13 November, bl. 19.

Du Plooy, H. en H. Viljoen. 1992. Benaderingswyses in die literatuurwetenskap. In Cloete (red.) 1992.

Eco, U. 2005. On literature. Vertaal deur M. McLaughlin. Londen: Secker & Warburg. 

Eksteen, L.C. 1982. Geslote boek te ligtelik opgeneem. Oggendblad, 29 Januarie, bl. 13. 

Erasmus-Alt, J. 2016. Grensoorskryding in Alfabet van die voëls deur S.J. Naudé en Sondag op ’n voëlplaas deur Johann Nell. PhD-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.

—. 2019. Die bydrae van nie-artistieke praktyke tot die literêre sukses van eksemplariese Afrikaanse tekste. ’n Ondersoek na beeldvorming. PhD-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.

Fenoulhet, J. 2010. Nomadic literature. The novels of Cees Nooteboom. Ongepubliseerde intreerede, University College London.

—. 2013. Nomadic literature. Cees Nooteboom and his writing. New York : Peter Lang International Academic Publishers.

Grobler, H. 1978. Monica: Uitvloeisel van stroming wat wêreld op loop het. Hoofstad, 24 Augustus, bl. 20.

—. 1989. Méér as ’n leesbare, ligte roman ... Transvaler, 17 April, bl. 2.

—. 1996. Verbeelde werklikheid is heerlike boek. Vrydag, 19 Julie, bl. 5. 

Hambidge, J. 1989. Baker goël bedrewe met konvensies. Beeld, 24 Februarie, bl. 10. 

—. 1992. Metaroman. In Cloete (red.) 1992.

Human-Nel, M. en H. van Coller. 2016a. Literêre prestige – Die geval Eleanor Baker. LitNet Akademies, 13(1):86–111. http://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2016/05/LitNet_Akademies_13-1_HumanNelVanColler_86-111.pdf.

—. 2016b. Schreiner vs. Joubert: Hul vernuwende rol in die Suid-Afrikaanse literatuursisteem. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(1):169–87.

Human-Nel, M.J. 2009. Die impak van sosiopolitieke verandering op die plek van vroueskrywers in die Afrikaanse literêre kanon. PhD-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.

Jakobson, R. 1960. Linguistics and poetics. In Sebeok (red.) 1960. 

Jansen, V. 2003. Lewe is ’n voortdurende reddingspoging. Die Burger, 14 April, bl. 9.

Johl, R. 1978. Monica ’n “oop” leesavontuur vir lekelees. Transvaler, 1 Julie, bl. 7.

Kannemeyer, J.C. 1996. Dié roman is ragfyn beplan. Rapport, 30 Junie, bl. 31. 

—. 2005. Die Afrikaanse literatuur. 1652–2004. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau. 

Kruger, J. 1974. Onderhoud met Eleanor Baker. Die Vaderland, Maart.

Krüger, L. 1986. ’n Kop vol boeke. De Kat, Augustus, bl. 80. 

Lategan, L. 1999. Duiwelse oorlog waaroor Baker oopkop skryf. Volksblad, 15 Februarie, bl. 8.

—. 2003. Baker se laaste roman staan kop en skouers bo haar ander werk. Volksblad, 6 Januarie, bl. 4. 

Lombaard, S. 2002. Baker was ons “cantadora”. Die Burger, 18 Julie, bl. 4. 

Malan, C. 1992. Kultuurkritiek. In Cloete (red.) 1992. 

McKnight, R. 2003. ’n Ou begin. Boekewêreld, Kaapse Bibliotekaris, 47(1):16–7.

Pakendorf, G. 1988. Blomtyd, maar Iris wil nie blom nie. Die Burger, 30 Maart, bl. 6.

Pelser, W. 2002. Talle verslae oor Eleanor Baker se dood. Volksblad, 3 Julie, bl. 6.

Pereira, E. 1992. Romantiek. In Cloete (red.) 1992.

Posman, S. 2017. This Deleuzian century. Resensie. Die Leesclub van alles. https://hopla.deleesclubvanalles.nl/recensie/this-deleuzian-century (23 Maart 2020 geraadpleeg). 

Pretorius, W. 1992. Uitdagend erotiese roman kafoefel lekker met Afrikaans. Beeld, 16 April, bl. 2. 

Rayner, T. 2013. Lines of flight: Deleuze and nomadic creativity. https://philosophyforchange.wordpress.com/2013/06/18/lines-of-flight-deleuze-and-nomadic-creativity (4 Desember 2019 geraadpleeg). 

Roos, H. 1998. Perspektief op die Afrikaanse prosa van die twintigste eeu. In Van Coller (red.) 1998.

—. 2006. Die Afrikaanse prosa 1997 tot 2002. In Van Coller (red.) 2006 

Scholtz, H. 1974. Eleanor se kinderdae omgeskryf. Transvaler, 4 Februarie, bl. 4. 

—. 1999. Dit reën groot duiwels dood. De Kat, Februarie, ble. 26–7.

Scholtz, M.G. 1992. Roman. In Cloete (red.) 1992. 

Schoonees, P.C. 1950.Tien jaar prosa. Johannesburg: Afrikaanse Pers Boekhandel. 

Sebeok, T.A. (red.). 1960. Style in language. New York: MIT Press.

Spies, L. 1996. Die bydrae van die Afrikaanse digteres: ’n Eie literatuurgeskiedenis? Stilet, 9(2):50–7.

Steenberg, D.H. 1992. Literatuur en lewensbeskouing. In Cloete (red.) 1992. 

Terblanche, E. 2016. Eleanor Baker (1944–2002). ATKV/LitNet-Skrywersalbum. 23 Februarie. https://www.litnet.co.za/eleanor-baker-1944-2002 (2 Desember 2019 geraadpleeg).

Van Biljon, M. 1996. Die vrou se lewe in ’n spieël gesien. Die Burger, 7 Julie, bl. 11.

Van Coller, H.P. 1995. Die Afrikaanse plaasroman as ideologiese refleksie van die politieke en sosiale werklikheid in Suid-Afrika. Stilet, 7(2):22–31.

—. 1996. Canonization and standardization in the New South Africa. Frame. Tijdschrift voor Literatuurwetenschap. Themanummer Interculturele Literatuurwetenschap, 11(3):4–8. 

—. 2001. N.P. Van Wyk Louw as kanoniseerder. Deel 2. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 41(2):133–46.

—. 2006. Profiel: Marita van der Vyver (1958–). In Van Coller (red.) 2006. 

—. 2009. Tussenstand: Letterkundige opstelle. Pretoria: Van Schaik.

Van Coller, H.P. (red.). 1998. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 1. 1ste uitgawe. Pretoria: J.L. van Schaik.

—. 1999. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 2. 1ste uitgawe. Pretoria: J.L. van Schaik.

—. 2006. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 3. 1ste uitgawe. Pretoria: Van Schaik. 

—. 2015. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 1. 2de uitgawe. Pretoria: Van Schaik. 

Van Coller, H.P. en B. Odendaal. 2005a. Die verhouding tussen die Afrikaanse en Nederlandse literêre sisteme. Deel 1: Oorweging vir ’n beskrywende model. Stilet, 17(3): 1–17. 

—. 2005b. Die verhouding tussen die Afrikaanse en Nederlandse literêre sisteme. Deel 2: ’n Chronologiese oorsig. Stilet, 17(3):18–46.

Van der Merwe, C.N. 1994. Breaking barriers. Stereotypes and the changing of values in Afrikaans writing. 1875–1990. Amsterdam en Atlanta, GA: Rodopi.

Van Gennep, A. 1960 [1908]. The rites of passage. Chicago: The University Press.

Van Niekerk, A. 1994. Vrouevertellers 1843–1993. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1999. Die Afrikaanse vroueskrywer – van egotekste tot postmodernisme (18de eeu – 1996). In Van Coller (red.) 1999. 

Van Zyl, A. 1984. Tradisionele tema in sprokie prikkelend verdiep. Volksblad, 27 Oktober, bl. 6.

—. 1989. Dié werk pak jou beet en voer jou mee. Volksblad, 11 Februarie, bl.15.

Van Zyl, D. 2006. Profiel: Eleanor Baker (1944–2002). In Van Coller (red.) 2006. 

—. 2015. Profiel: Eleanor Baker (1944–2002). In Van Coller (red.) 2015. 

Van Zyl, I. 1978. Monica: Vol waarde vir romanliteratuur. Die Suidwester, 10 Julie, bl. 2.

—. 1982. Baker stel teleur. Die Suidwester, 15 Februarie, bl. 2.

—. 1985. Ander boeke: Weerkaatsings. Die Suidwester, 22 Februarie, bl. 14.

Van Zyl, W. 1999. Knap oorlogsroman vir die breë leserspubliek. Rapport, 28 Februarie, bl. 18. 

Viljoen, H. 1992. Verandering. In Cloete (red.) 1992. 

Viljoen, L. 1996. Baker trek ’n deur toe. Insig, Augustus, bl. 38.

Wasserman, H. 1998. Vaardige roman nie krities genoeg. Die Burger, 2 Desember, bl.14. 

Willemse, H. 1999. ’n Inleiding tot buite-kanonieke Afrikaanse kulturele praktyke. In Van Coller (red.) 1999.

 

Eindnotas 

1 Baker se “sêgoed” word vervat in ’n LitNet-skrywersprofiel deur Erika Terblanche: https://www.litnet.co.za/eleanor-baker-1944-2002.

2 Braidotti (2014:177) gebruik hier ’n voetnoot (29): Michael Hardt and Antonio Negri, Empire (Cambridge, MA: Harvard University Press, 2000); Paolo Virno, A grammar of the multitude (New York: Semiotext(e), 2000).

3 Deleuziaanse vitalisme:

Hoe moeten we Deleuzes vitalistische leven dan begrijpen? De laatste tekst die Deleuze schreef, “Immanence: une vie”, [...]: ‘een zuiver asubjectieve bewustzijns-stroom, een onpersoonlijk prereflexief bewustzijn, als kwalitatieve duur van een bewustzijn zonder ik’ (Deleuze 2006:16). Het leven dat centraal staat in Deleuzes denken is niet iemands leven. Hij gebruikt het onbepaald lidwoord – ‘une’ vie – om aan te geven dat het ontsnapt aan representatie. Een leven is de werkelijkheid als immanent veld. Zo’n immanent veld is niet vlak of puur: je kunt het zien als een netwerk of als een verzameling plateaus met dynamische verbanden, tussen de dingen, en tussen de dingen en ons denken. (Posman 2017)

4 Inligting omtrent die betekenis van name van hoofkarakters, byvoorbeeld as Bybelverwysings of verskillende mitologiese verbintenisse, varieer. Dit word by die aanvang van elke kort samevatting van die boek en boekomslag by die naam van elke hoofkarakter slegs genoem. Omdat die herkoms van name en naambetekenisse geredelik allesomvattend hanteer word by http://www.thinkbabynames.com, is dié webtuiste vir die doeleindes van die navorsing gebruik.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Vroulike karaktersubjektiwiteit: die strategiese gebruik van nomadiese skryf deur Eleanor Baker appeared first on LitNet.

Vonnisbespreking: Grondwetlike skadevergoeding as "nominale" en "verswaarde" skadevergoeding in dringende aansoeke

$
0
0

Vonnisbespreking: Grondwetlike skadevergoeding as “nominale” en “verswaarde” skadevergoeding in dringende aansoeke
Ngomane v Johannesburg (City) 2020 1 SA 52 (HHA)

Emile Zitzke, Skool vir Regte, Universiteit van die Witwatersrand

LitNet Akademies Jaargang 17(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Abstract

Constitutional damages as “nominal” and “aggravated” damages in urgent applications

The case of Ngomane tells the story of how the Johannesburg municipality removed and destroyed the possessions of homeless people without lawful authority. The victims of this unlawful conduct brought an urgent application for the return of the property, return of similar substituted items, and/or further relief. One of the questions before the court was whether the further or alternative relief requested could include an award of damages. On the damages front, the High Court found its hands tied because a claim for unliquidated damages at common law is not allowed in urgent application proceedings. Furthermore, it found that a claim for constitutional damages would be too difficult to determine on the facts before it. In the Supreme Court of Appeal, the common-law-damages claim was similarly dismissed but an award for constitutional damages was made. The reason for this was ultimately that the constitutional rights to property and dignity of the homeless people were violated and so an appropriate and effective remedy had to follow. Despite the difficulty of assessing the extent of damage (given the vagueness of the descriptions of property and the probable low economic value of such property) the court awarded what I argue to be “nominal damages” for the property damage. Additionally, the court awarded what I call “aggravated damages” for the dignity infringement attached to the intentional and wanton disrespect shown to the affected community. In this case discussion, I argue that this award for constitutional damages ought to be welcomed to the extent that constitutional damages (as nominal and aggravated damages) were awarded in this case to bridge the gap between an inadequate law of civil procedure and the effective vindication of constitutional rights. However, I also argue that the scope of the judgment should be restricted to urgent applications on similar facts.

Keywords: aggravated damages; constitutional damages; damages; delict; nominal damages; transformative constitutionalism 

Trefwoorde: delik; grondwetlike skadevergoeding; nominale skadevergoeding; skadevergoeding; transformatiewe grondwetlikheid; verswaarde skadevergoeding

 

1. Inleiding 

Die verhaal van Ngomane v Johannesburg (City) 2020 1 SA 52 (HHA) speel af op die middelmannetjie onder die R31-snelwegbrug op Endstraat in Johannesburg. ’n Hawelose gemeenskap het onder hierdie brug vir hulself ’n tuiste geskep. Hul beddens is uit bokse en plastiekvelle of ou matrasse gemaak. “Kamers” is met houtpalette afgebaken. Soggens, wanneer die gemeenskap die strate ingevaar het op soek na werk, is die kamers en beddens afgetakel en netjies op die middelmannetjie gepak, saam met die gemeenskap se ander besittings wat kos, klere, komberse en stukkende tasse ingesluit het (parr. 1–2).1

Op ’n dag het die Johannesburgse Metropolisie by die middelmannetjie opgedaag, die besittings van die hawelose mense op ’n trok gelaai en toe verdwyn. Dit was onduidelik of die gemeenskapslede deur die beamptes uitgeskel is en of sommige van hulle met pepersproei bygekom is. Desnieteenstaande vind hierdie geval sonder ’n hofbevel en sonder enige betekenisvolle deelname van die betrokke gemeenskap plaas (par. 3). Die voorval word deur ’n barmhartige omstander op video opgeneem. Die video wys hoe die beamptes die hawelose gemeenskap se matrasse, komberse, tasse en rugsakke onverskillig en onbedagsaam op die trokke gooi (par. 6). Die hof a quo bevind dat die video ook aantoon dat die beamptes moes besef het dat die items wat op die trokke gegooi is van ’n “huishoudelike aard” vir die hawelose mense sou wees (par. 7).

Die stad se verduideliking vir die gedrag van die beamptes is dat hulle besig was met ’n “skoonmaakoperasie”, waar slegs “vullis” verwyder is en geen “waardevolle items” weggeneem is nie. Die verwydering van rommel in openbare plekke deur die stad se beamptes word deur die stad se munisipale wetgewing toegelaat. Die stad is verder van mening dat geen uitsetting of sloping van enige wonings plaasgevind het nie (par. 5).

Die hawelose gemeenskap vereis op ’n dringende basis dat die stad die goedere waarop beslag gelê is, terug moet gee, of dat soortgelyke goedere aan die gemeenskap gegee word, tesame met enige ander verligting wat die hof bereid is om toe te ken.

In wat volg word die uitspraak van die Johannesburgse Hoë Hof kortliks bespreek. Die hof het bevind dat die hawelose gemeenskap nie met enige eis ten opsigte van hul eie regte kon slaag nie. Hierdie uitspraak kan as “grondwetlik gebrekkig” bestempel word. Dit beteken ruweg dat die hof die saak beslis volgens ’n regsmetode ingevolge die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 sonder dat die substantiewe waardes en transformatiewe visie van die Grondwet verwerklik word (sien bv. Zitzke 2016:105; Zitzke 2018a:498; Zitzke 2018b:182–3).

Daarna word die uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl bespreek, waarin grondwetlike skadevergoeding aan die hawelose gemeenskapslede toegeken is. Hierdie uitspraak vertoon ’n duideliker grondwetlike glans. 

Alhoewel hierdie uitsprake sekerlik die meeste gevolge vir die sakereg inhou, is die fokus van hierdie bydrae op die gevolge van die gewysdes vir die deliktereg. Die uiteindelike doel van hierdie bydrae is om die Hoogste Hof van Appèl se redenasie ten opsigte van die grondwetlike skadevergoedingsvraagstuk beter te verstaan en moontlik in sekere opsigte te verdedig. Die twee vorme van die grondwetlike skadevergoeding wat by ’n dringende aansoek ter sake blyk te wees, is na my mening “nominale skadevergoeding” (nominal damages) en “verswaarde skadevergoeding” (aggravated damages).

 

2. Hoë Hof 

Die Hoë Hof het in Ngomane v City of Johannesburg Metropolitan Municipality 2017 JDR 0822 (GJ) teen die applikante se eerste twee bedes bevind. Die hawelose gemeenskap kan nie ingevolge die mandament van spolie die teruggawe van hul besittings eis nie omdat die beskrywing van die sake te vaag is en omdat die goedere reeds na vullishope geneem is. Die regsbeginsel is dat sake wat vernietig is nie deur die besitsherstelbevel ingevolge die mandament geëis kan word nie (parr. 12–13). Die hof bevind ook dat die eis vir lewering van plaasvervangende goedere deur geen regsbeginsel ondersteun kan word nie (par. 15). Of hierdie bevindings aangaande die sakereg korrek is of nie, val buite die omvang van hierdie bespreking.

Die hof verduidelik dan dat die toepaslike remedie in beginsel ’n deliktuele aksie vir skadevergoeding behoort te wees. Volgens die siviele prosesreg kan daardie skadevergoedingseis egter nie op ’n dringende basis versoek word nie. Alhoewel hierdie eis in beginsel tot die applikante se redding sou kon kom, sou die eis egter waarskynlik in praktiese terme nie slaag nie aangesien die besittings van die hawelose mense min of geen waarde gehad het nie en omdat die goedere in generiese terme in die hofstukke beskryf is sonder enige betekenisvolle besonderhede om die waarde daarvan te kon bepaal (par. 15).

Die onwaarskynlikheid dat die hawelose mense met ’n deliktuele eis sou slaag, gekoppel aan die dringendheid om hul omstandighede te verlig, lei dan die hof om te fokus op die diskresie van die hof om na goeddunke verligting te skenk. Twee belangrike remedies word in hierdie opsig oorweeg.

Die eerste alternatiewe remedie is om grondwetlike skadevergoeding vir die verwydering van die besittings van die hawelose mense toe te ken. Die hof bevind eenvoudig dat die remedie in hierdie geval onvanpas was omdat die hof verdere bewyse en argumente aangaande beleidsoorwegings oor hierdie remedie verlang het (par. 36). Hoekom die hof nie mero motu die toepaslike beleidsoorwegings kon oorweeg nie, is onduidelik. 

Die tweede alternatiewe remedie is om ’n bevel nisi uit te reik waarvolgens die hof duidelike voorskrifte bepaal oor die prosedure wat gevolg moet word wanneer die stad beslag wil lê op die besittings van hawelose mense. Die voorskrifte is daarop gemik om meer respek vir die hawelose mense te betoon. Dit omvat redelike navraag aangaande die identiteit van die haweloses, waar daardie persone hulle bevind, die opberging van die besittings in plaas van die vernietiging daarvan en relevante kennisgewings oor waar die opgebergde sake gevind kan word (par. 39). Volgens die hof was dit die enigste gepaste remedie.

Die bevel nisi is sekerlik ’n bevinding wat verwelkom kan word aangesien dit in die praktyk die rol van ’n mandamus vervul, waarvolgens die regte van hawelose mense in die toekoms beter beskerm sal kan word, veral in hierdie geval waar voor-die-hand-liggende stappe nie gedoen is om die goedere en menswaardigheid van hawelose mense te beskerm nie. Ongelukkig is hierdie uitspraak egter minder indrukwekkend met betrekking tot die vraag oor grondwetlike skadevergoeding. 

As ’n vertrekpunt, word die hof se bevindings aangaande die ontoepaslikheid van ’n deliksaksie in hierdie geval ondersteun. Volgens ons siviele prosesreg kan ’n eis vir ongelikwideerde skadevergoeding nie as ’n dringende aansoek gebring word nie. Dit is hoofsaaklik omdat sodanige aansoeke in beginsel handel oor gevalle waar die feite van die saak betwis word (sien bv. Theophilopoulos e.a. 2012:130). Gegewe die dringende aard van hierdie geval − waar die heenkome en slaapplek van die hawelose mense vir die volgende nag op die spel is − laat die verwerping van die deliktuele eis (op grond van die prosesreg) die hawelose gemeenskap in ’n ondraaglike toestand, veral omdat dit voor die hand liggend is dat hul eiendomsreg en menswaardigheid aangetas is.

Selfs al kon die hawelose gemeenskap in hierdie geval op ’n dringende basis ’n deliktuele eis instel, moet die hof gelyk gegee word dat die slagoffers sou sukkel om die waarde van hul vernietigde besittings te bewys, wat op ’n oorwig van waarskynlikheid bewys moet word (sien bv. Jowell v Bramwell-Jones 2000 3 SA 274 (HHA) par. 22). 

As daar aanvaar kan word (1) dat die siviele prosesreg aanvaarbaar is ten opsigte van dringende aansoeke en die verhouding daarvan met eise vir skadevergoeding, (2) dat die hawelose gemeenskap in die praktyk nie met sukses ’n normale, nie-dringende deliksaksie sal kan instel nie en (3) dat die eiendomsreg en menswaardigheid van die hawelose gemeenskap aangetas is, dan behoort daar ingevolge artikel 38 van die Grondwet ’n ander doeltreffende en voldoende remedie geskep te word om tot die redding van die slagoffers te kom. 

Die Suid-Afrikaanse reg verskaf geen duidelikheid oor presies wanneer grondwetlike skadevergoeding toegeken behoort te word nie. ’n Paar beginsels oor wanneer grondwetlike skadevergoeding onvanpas is, is egter duidelik. Na die beslissing in Fose v Minister of Safety and Security 1997 3 SA 786 (KH) staan dit vas dat grondwetlike skadevergoeding nie toegeken sal word om die staat deur middel van skadevergoeding te straf nie. Daar is ook gesag dat waar ander effektiewe remedies vir die skending van menseregte bestaan (soos bv. gemeenregtelike skadevergoeding), daardie remedies eerder gebruik moet word in plaas daarvan om grondwetlike skadevergoeding toe te ken (sien bv. Minister of Police v Mboweni 2014 6 SA 256 (HHA)), terwyl ander hofsake die standpunt huldig dat grondwetlike skadevergoeding ’n remedie van eerste rang kan wees (sien bv. MEC for the Department of Welfare, Eastern Cape v Kate 2006 4 SA 478 (HHA)). Die spesifieke elemente wat bewys moet word om te slaag met ’n eis vir grondwetlike skadevergoeding bly egter steeds onduidelik. In President of the Republic of South Africa v Modderklip Boerdery 2005 5 SA 3 (KH) is grondwetlike skadevergoeding byvoorbeeld toegeken sonder enige direkte verwysing na skuld, onregmatigheid en kousaliteit. In daardie geval het die hof die volgende faktore in ag geneem om die aanspreeklikheid vir grondwetlike skadevergoeding te bevestig: die ongrondwetlike skending van ’n grondwetlike reg (parr. 38–51); die benarde omstandighede en swaarkry van die betrokke partye; die staat se algemene onhulpvaardigheid (par. 53); en die gebrek aan ander doeltreffende remedies (parr. 61–4). Hierdie faktore aangedui in Modderklip moet ten minste in ag geneem word om te bepaal of grondwetlike skadevergoeding in die geval van Ngomane ’n gepaste remedie sou wees. In Ngomane is die onmiddellike toekomstige swaarkry van die hawelose gemeenskap duidelik genoeg, asook die staat se onsimpatieke houding teenoor die slagoffers. Die enigste uitstaande kwessie is die ongrondwetlike skending van die grondwetlike regte van die slagoffers.

In handveslitigasie word ’n tweestapondersoek soos volg gedoen (sien Chaskalson e.a. 2013:7). Daar moet eerstens bevestig word dat ’n grondwetlike reg geskend is, sodat ’n prima facie saak uitgemaak kan word. Toegepas op Ngomane is die vraag dan of die grondwetlike eiendomsreg en die reg op menswaardigheid prima facie deur die staat geskend is. Indien wel, is die volgende stap, ingevolge artikel 36 van die Grondwet, of daardie skending van die regte (wat effektief ’n beperking van die regte is) geregverdig kan word in ’n oop en demokratiese samelewing gegrond op die waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid. (Terloops, hierdie tweestapondersoek van handveslitigasie is ’n interessante weerspieëling van die gemeenregtelike bepaling van onregmatigheid waar ’n regsbelang geskend is, soos verduidelik deur Neethling en Potgieter 2015:45.) 

Om te bepaal of die vernietiging van die besittings van die hawelose mense op ’n skending van artikel 25 van die Grondwet neerkom, moet volgens Slade (2019:37) die spesifieke metodologie vir grondwetlike eiendomsregtelike dispute gevolg word soos neergelê in First National Bank of South Africa t/a Wesbank v Commissioner, South African Revenue Service; First National Bank of South Africa t/a Wesbank v Minister of Finance 2002 4 SA 768 (KH) (hierna “FNB”). Hier sal in die besonder op artikel 25(1) van die Grondwet gefokus word. 

Daardie artikel bepaal: “Niemand mag eiendom ontneem word nie behalwe ingevolge ’n algemeen geldende regsvoorskrif, en geen regsvoorskrif mag arbitrêre ontneming van eiendom veroorloof nie.” Ontneming word in FNB (par. 57, my vertaling) beskryf as “enige inmenging met die gebruik, genot of benutting van privaat eiendom”. Onlangs het die Konstitusionele Hof in die deliktuele aangeleentheid van Loureiro v iMvula Quality Protection 2014 3 SA 394 (KH) par. 56 verklaar dat die veroorsaking dat goedere onopspoorbaar verdwyn, wat tradisioneel onder die beginsels vir Aquiliese aanspreeklikheid verhaalbaar is, op ’n skending van die grondwetlike beskerming van eiendomsreg neerkom. Die duidelikste voorbeeld van ontneming moet sekerlik die verwydering en vernietiging van iemand se goedere wees. Dus kan daar geargumenteer word dat die handeling van die stad in Ngomane op ’n ontneming van eiendomsreg neerkom.

Slade (2019:39) verduidelik dat daar drie komponente aan hierdie grondwetlike bepaling oor ontneming verbonde is. Eerstens moet bepaal word dat die saak of sake in dispuut “eiendom” vir doeleindes van artikel 25 is. Tweedens is die vraag of ’n algemeen geldende wet die ontneming toelaat. Derdens is die vraag of die ontneming volgens daardie wet arbitrêr is al dan nie. Indien daar ’n skending van artikel 25(1) was, is die volgende stap, soos alreeds hier bo aangedui, om te bepaal of die skending ingevolge artikel 36 van die Grondwet geregverdig kan word. As die skending van artikel 25(1) nie volgens die beperkingsklousule geregverdig kan word nie, is die beperking ongrondwetlik (FNB parr. 58–9). 

Die grondwetlike beskerming van die eiendomsbegrip strek baie verder as net onroerende goedere. In FNB (par. 48–56) bepaal die Konstitusionele Hof dat liggaamlike, roerende sake soos motors binne die soepele betekenis van grondwetlike eiendom val. Dus sou die matrasse, komberse en rugsakke van die hawelose mense in Ngomane ook grondwetlike beskerming as eiendom geniet. 

Die verwydering en vernietiging van vullis word deur munisipale wetgewing toegelaat (sien Stad van Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit Publieke Gesondheid Munisipale Wetgewing, gepubliseer onder Kennisgewing 830 in die Gautengse Provinsiale Buitengewone Koerant Nommer 179 van 21 Mei 2004). Hierdie munisipale wetgewing verwys egter nie na die verwydering en vernietiging van die goedere van hawelose mense wat op sypaadjies of soortgelyke plekke gelos is nie. Om hul goedere as “vullis” te beskryf, is onsensitief, onmenslik en onakkuraat. Net omdat iets dalk vuil of van min waarde is, beteken nie noodwendig dat dit vullis is nie. Goedere word vir doeleindes van die sakereg as ’n saak geklassifiseer, selfs al het dit slegs sentimentele en nie finansiële waarde nie (Muller e.a. 2019:26). “Vullis”, soos die term in die munisipale wetgewing gebruik word, kan moontlik regtens gelykstaan aan res derelictae. Die besittings van die hawelose mense wat op die middelmannetjie gelos is, kan nie as res derelictae bestempel word nie: sowel fisiese beheer as die animus possidendi moet laat vaar word voordat die saak as verlate beskou kan word (Muller e.a. 2019:305–6), en in Ngomane is die animus duidelik nooit laat vaar nie. Dus is die “algemene regsvoorskrif” waarop die munisipaliteit blykbaar gesteun het as gesag vir die vernietiging van die eiendom nie van toepassing op hierdie geval nie. Dit dui daarop dat die munisipaliteit die ontneming sonder enige wetlike gesag bewerkstellig het. Die vraag oor die arbitrêre aard van die wetgewing ontstaan gevolglik nie. Derhalwe was daar ’n prima facie skending van artikel 25(1) van die Grondwet.

Die vraag is dan of die munisipaliteit kon slaag met ’n argument dat hierdie beperking van die reg teen ontneming ingevolge die beperkingsklousule geregverdig kan word. Artikel 36(1) van die Grondwet maak voorsiening dat eiendomsregte deur middel van algemeen geldende regsvoorskrifte beperk kan word. Aangesien die munisipaliteit op geen wetlike bepaling staat kon maak om hul gedrag te regverdig nie, was die ontneming nie geregverdig nie. Ingevolge artikel 36(2) is die beperking van eiendomsreg in Ngomane dus ongrondwetlik.

Omdat daar geen algemeen geldende regsvoorskrif is waarvolgens die eiendomsreg ontneem is nie, sou hierdie ontneming ook nie kon neerkom op ’n grondwetlike onteiening soos beoog deur artikel 25(2) van die Grondwet nie.

Soos vroeër gemeld, is daar onduidelikheid in ons reg oor watter elemente bewys moet word om te slaag met die eis om grondwetlike skadevergoeding. Selfs ingevolge die gemeenregtelike deliktereg is dit egter in hierdie geval duidelik dat oorsaaklikheid, skuld en onregmatigheid teenwoordig is. As die stad nie die goedere vernietig het nie, sou die logiese gevolg daarvan op ’n oorwig van waarskynlikheid wees dat die hawelose mense nog in besit van hul goedere sou wees. Dus is daar ’n feitelike skakel tussen die handeling en die skade (sien Lee v Minister of Correctional Services 2013 2 SA 144 (KH) par. 41). Daar is ’n noue, selfs direkte, feitelike verband tussen die stad se optrede en die grondwetlike skade wat deur die slagoffers gely is. Die gevolgtrekking dat die stad se handeling hier die regsoorsaak van die skade was, sou nie onregverdig of onbillik wees nie (sien Fourway Haulage SA v SA National Roads Agency 2009 2 SA 150 (HHA) parr. 30–5; mCubed International v Singer 2009 4 SA 471 (HHA) par. 27). Die stad se werkers het met dolus directus opgetree (Neethling en Potgieter 2015:133), deur positiewe dade en sonder enige geldige regverdigingsgronde. Volgens die gemenereg sou hierdie tipe handeling waarskynlik as onregmatig bestempel word (sien Fagan 2019:244). Die oorweldigende prentjie wat geskets word, is ’n beleidsargument ten gunste van aanspreeklikheid vir grondwetlike skadevergoeding.

’n Soortgelyke argument kan geopper word oor die beweerde pepersproei en skeltaal waarmee die hawelose mense hanteer is wat hul menswaardigheid betref. Die beweerde hardhandige behandeling van die hawelose mense in hierdie geval sou hul sin van eiewaarde aantas wat, volgens Le Roux v Dey 2011 3 SA 274 (KH) (par. 138), beskerm word deur die reg op menswaardigheid in artikel 10. As daar geen wettige gesag was vir die verwydering en vernietiging van die goedere van die hawelose mense nie (soos hier bo verduidelik), het die hawelose mense die reg gehad om daarteen te protesteer aangesien dit ’n onregmatige aanval op hul goedere was (Naude & Du Plessis v Mercier 1917 AD 32, 37–8). Gevolglik was enige mondelinge of fisieke aanvalle op die hawelose mense sonder enige regverdiging (wat in ’n oop en demokratiese samelewing aanvaar kan word) en dus ongrondwetlik. 

Die uiteinde is dan dat die eiendomsreg en die reg op menswaardigheid van die hawelose mense ongrondwetlik deur die stad beperk is en dat hierdie mense dringend geregtig was op praktiese hulp.

Dit is onduidelik waarom die hof nie bogenoemde beleidsoorwegings kon oorweeg en grondwetlike skadevergoeding toeken nie. Die gevolg is dat grondwetlike regte geskend is sonder enige effektiewe remedie. Ubi ius ibi remedium word in die agtergrond geneurie (sien bv. Engelbrecht v RAF 2007 6 SA 96 (KH) par. 21). Dit is om hierdie rede dat die uitspraak van die Hoë Hof as grondwetlik gebrekkig bestempel kan word: Daar word dikwels na die Grondwet verwys, en die menseregtelike politoer word dus dik aangesmeer, maar die grondwetlike vereiste vir ’n doeltreffende remedie in die geval van ’n skending van regte is afwesig. Die poging om die bepalings van die Grondwet toe te pas, word verwelkom maar die resultate van die toepassing laat veel te wense oor. Daarvoor moet ’n mens gaan soek in die appèlhofuitspraak, wat volgende bespreek word.

 

3. Hoogste Hof van Appèl

Regterpresident Maya, wat die eenparige uitspraak van die hof lewer, bevestig die bevindings van die Hoë Hof dat die mandament van spolie nie toepaslik is in ’n geval waar roerende sake vernietig is nie (par. 18). Om redes wat nie heeltemal duidelik is nie, bevind die hof ook dat ’n vervanging van die vernietigde sake in hierdie geval nie toegeken sou kon word nie (par. 20). Die sakeregtelike kwessies daargelaat, vestig die hof dan die aandag op die grondwetlike skadevergoedingsaangeleentheid.

Die hof het die toegewing deur die stad dat die verwydering en vernietiging van die hawelose mense se roerende sake onregmatig was (par. 14), verwelkom (par. 18). Oor die mondelinge en fisieke aanvalle op die hawelose mense bevind die hof egter dat die videomateriaal van die voorval geen aanranding of mishandeling aantoon nie (par. 13). Volgens die hof kan daar dus nie aanvaar word dat sodanige aanvalle wel plaasgevind het nie. 

Daar word egter bevind dat die stad die eiendomsreg van die haweloses arbitrêr (willekeurig) ingevolge artikel 25(1) van die Grondwet ontneem het, asook dat artikel 14(c) oortree is wat die beslaglegging op besittings ingevolge die reg op privaatheid verbied. Hierdie kombinasie van die eiendoms- en privaatheidskendings dui “minagting” en “vernedering” aan wat “ontsteltenis” veroorsaak het en wat in ’n grondwetlike menswaardigheidskending beliggaam word (par. 21).

Gevolglik is die stad se gedrag ten opsigte van die hawelose mense onregmatig en ongeldig ingevolge artikel 172 van die Grondwet, wat gepaste regshulp ingevolge artikel 38 van die Grondwet verlang. Die Fose-saak word aangehaal om te beklemtoon dat howe ’n wye diskresie het om te bepaal watter regshulp in ’n gegewe geval gepas sal wees, wat nuwe grondwetlike remedies kan insluit (par. 22).

Die hof eggo die Hoë Hof se sienings oor die waarskynlike mislukking van ’n toekomstige gemeenregtelike deliksaksie omdat die eiendom se waarde baie laag is en die roerende goedere nie duidelik beskryf kon word nie (parr. 24–5). Hierdie feit, gekoppel aan die dringende nood van die hawelose mense as gevolg van die grondwetlike skade wat hulle opgedoen het, veroorsaak dat die hof grondwetlike skadevergoeding toeken. Die hawelose mense was bereid om R1500 elk te aanvaar vir die “verlies van hul eiendom en die onreg wat hulle gely het” (par. 26, my vertaling) en wat die hof sien as die skending van hul eiendomsreg en menswaardigheid (par. 27). Die bevel nisi van die Hoë Hof bly in stand ten spyte van hierdie bevinding. Dus word daar sowel herstellende (oftewel korrektiewe) geregtigheid as toekomsgerigte regshulp verleen. Soos reeds in deel 2 van hierdie bydrae voorgestel, word die toekenning van grondwetlike skadevergoeding deur die hof verwelkom. Na Ngomane moet daar egter gevra word onder watter omstandighede hierdie tipe grondwetlike skadevergoeding vir die krenking van eiendomsreg en menswaardigheid toegeken behoort te word.

’n Leser mag byvoorbeeld wonder of daar nou twee gelyklopende strome van skadevergoeding in ons reg bestaan waarvolgens ’n eiser in die algemeen mag kies tussen ’n eis vir grondwetlike skadevergoeding en eise gebaseer op die gemeenregtelike lex Aquilia en actio iniuriarum. Om redes wat binnekort duidelik sal word, is my argument dat die Ngomane-konstruksie van grondwetlike skadevergoeding beperkend uitgelê moet word om slegs op ’n eng spektrum van gevalle van toepassing te wees waar die gemenereg en/of siviele prosesreg in die pad staan van die doeltreffende beskerming van die regte van delikslagoffers.

Dit beteken nie dat die Ngomane-saak van min waarde is nie. Die uiteinde van Ngomane is ’n briljante voorbeeld van die waarde wat die Grondwet kan toevoeg tot ons begrip van aanspreeklikheid vir die skending van regte waar die gemenereg en siviele prosesreg ten koste van weerlose mense in ons gemeenskap te kort skiet.

In die volgende deel van hierdie bydrae verduidelik ek eers in meer besonderhede wat presies die beperkende uitleg van Ngomane moet behels. Daarna verduidelik ek waarom Ngomane nie as gesag aanvaar behoort te word vir die skepping van ’n gelyklopende stroom van skadevergoeding nie. Ruweg is my betoë vir ’n beperkende uitleg van Ngomane slegs dat die beginsels nie noodwendig ’n verwarring en ontworteling in ons reg behoort te bewerkstellig nie. Soos wat die regsfilosoof Karl Klare verduidelik (1998:150), word die Suid-Afrikaanse regstelsel onder die Grondwet bestempel as “transformatief” (dit wil sê, progressief en ontwikkelingsbehoeftig). Transformasie, volgens Klare, val iewers tussen die ekstreme etikette van “revolusie” (waar huidige regsbeginsels en strukture heeltemal vernietig word) en “bewaring” (waar bestaande regsbeginsels en strukture minimaal ontwrig word).

 

4. ’n Beperkende toepassing van die Ngomane-toekenning

My argument is dat die Ngomane-saak slegs van toepassing behoort te wees op die volgende feitelike konstruksie: 

  1. ’n Dringende aansoek waar ’n bede vir ongelikwideerde skadevergoeding, aan die hand van die gemeenregtelike deliktereg, sivielprosesregtelik ontoelaatbaar is (die uitvloeisel is dus dat Ngomane nie van toepassing behoort te wees op nie-dringende aksies waar ’n gemeenregtelike remedie toelaatbaar is nie);
  2. Die geval handel oor saakvernietiging wat neerkom op ’n onregverdige ontneming van eiendomsreg wat ongrondwetlik is (die uitvloeisel is dus dat Ngomane nie van toepassing behoort te wees op gevalle waar die mandament van spolie of ’n soortgelyke remedie van toepassing kan wees nie); en
  3. Die saak wat vernietig is, het min ekonomiese waarde en/of dit is moeilik om die presiese waarde van die saak te bepaal; dus sal ’n deliktuele aksie waarskynlik onsuksesvol wees. 

Die reël is dat op hierdie feitelike konstruksie grondwetlike skadevergoeding aan gegriefde applikante toegeken mag word in die vorm van nominale skadevergoeding en/of verswaarde skadevergoeding. 

Die begrip nominale skadevergoeding word aan die Anglo-Amerikaanse reg ontleen. Wanneer ’n reg gekrenk is maar die skade minimaal is of die bewyse van die omvang van die skade onduidelik of onvoldoende is, bepaal die Anglo-Amerikaanse reg dat ’n klein bedrag skadevergoeding aan die slagoffer toegeken moet word as ’n openbare en simboliese erkenning en beskerming van daardie reg (sien bv. Bauer 1935:133; Okpaluba 2012:135). Die klein bedrag skadevergoeding kan in Amerika so min as een dollar wees (Grealish 2018:734). In die Ngomane-geval was die toekenning van grondwetlike skadevergoeding vir die vernietiging van eiendom egter nie bloot ’n simboliese gebaar nie. (’n Verklaring van regte volgens artikel 38 van die Grondwet kan in ons reg daardie simboliese doel dien.) In Ngomane was ’n billike dog klein bedrag toegeken wat ’n skadevergoedende funksie vervul het, alhoewel vir ’n onbepaalbare omvang van skade. Die skadevergoedende funksie van hierdie toekenning het ’n wesenlike impak op die heenkome van die hawelose mense in Ngomane gehad, en was dus nie bloot simbolies van aard nie. Al het die hof nie die terminologie van nominale skadevergoeding gebruik nie, blyk dit dat dit nie vreemd sal wees om voor te stel dat die hof hierdie tipe skadevergoeding, ontleen aan die vreemde reg, deur middel van die Grondwet toegeken het nie.

Hierdie toekenning van grondwetlike vergoeding vir nominale skade dui op ’n belangrike ontwikkeling van ons reg. Die standpunt van Neethling en Potgieter (2015:245) is dat die huidige gemeenregtelike deliktereg nie nominale skade vergoed nie. Dendy (2018:12, 22) voer egter aan dat daar gesag in die Suid-Afrikaanse gemeenregtelike deliktereg is vir die toekenning van vergoeding van nominale skade, maar dat dit in die onlangse geskiedenis prakties in onbruik verval het omdat die howe sedert 1935 verklarings van regte mag uitreik. Of die gemenereg in die toekoms ontwikkel moet word om, in die loop van ’n nie-dringende aksie, vergoeding van nominale skade toe te laat in gevalle waar die omvang van die skade onduidelik is ten spyte van die aanwesigheid van ’n duidelike regskending, is ’n vraag wat vir nou daar gelaat kan word. 

Maar wat van skadevergoeding waar menswaardigheid aangetas word? Weereens word ’n analoog in die Anglo-Amerikaanse reg gevind wat voorsiening maak vir die toekenning van aggravated damages oftewel verswaarde skadevergoeding. Beever (2003:89) verduidelik dat wanneer sekere torts gepleeg word, daar ’n gelyktydige krenking van menswaardigheid plaasvind. Berryman (2004:1521) gaan so ver as om te beweer dat hierdie menswaardigheidsfokus van verswaarde skadevergoeding die huidige toonaangewende perspektief van die begrip is. Omdat die Engelse reg nie ’n aparte delikseis vir menswaardigheidskendings erken nie (Murphy 2010:360), word hierdie vorm van skadevergoeding dan bykomend tot die “gewone” skadevergoeding toegeken as ’n indirekte vorm van die erkenning van menswaardigheid.

Vir Beever (2003:92) bestaan die menswaardigheidskrenking hier nie in die krenking van die slagoffer se gevoel van selfwaarde nie. Ons het dus nie te doen met die Suid-Afrikaanse klassieke begrip van menswaardigheid onder die actio iniuriarum nie. Die krenking hier gaan oor die slagoffer se objektiewe waarde en morele reg op respek wat veral geskend word wanneer ’n dader opsetlik die regte van ’n ander verontagsaam (Beever 2003:89; Murphy 2010:362). Opsetlike onregmatige dade omvat ’n absolute minagting van die slagoffer se regte; met ander woorde, dit is asof die dader glo dat die slagoffer glad nie die betrokke reg het nie. Dit is dus moontlik in die Engelse reg dat verswaarde skadevergoeding vir die krenking van menswaardigheid toegeken kan word selfs in gevalle van opsetlike saakbeskadiging (Murphy 2010:369) terwyl die Suid-Afrikaanse gemeenregtelike deliktereg wegskram daarvan om ’n skakel tussen menswaardigheid en eiendom te erken (sien bv. Union Government (Minister of Railways and Harbours) v Warneke 1911 AD 657, 665). Die idee blyk dus te wees dat die verswaarde skadevergoeding ’n aanvullende rol speel by die toekenning van vergoeding vir gewone vermoënskade of nie-vermoënskade. Verswaarde skadevergoeding in ’n geval van saakbeskadiging kan dus ’n analoë rol speel as verswarende faktor wat in ag geneem word by die berekening van vergoeding vir nie-vermoënskade onder die actio iniuriarum (sien in hierdie opsig ook Bailey 2018:passim).

Die Hoogste Hof van Appèl in Ngomane beslis dat hardhandigheid aan die kant van die stad en die gebruik van vuil taal nie in hierdie geval bewys kon word nie. Die feite was anders as dié wat in die klassieke voorbeeld van die actio iniuriarum van toepassing is. ’n Mens het in Ngomane te doen met die objektiewe menswaardigheid van die hawelose mense wat die stad aangetas het deur hul opsetlike en onregmatige dade, of − soos die hof dit uitdruk − die “minagting”, “vernedering” en “ontsteltenis” wat in hierdie geval met die opsetlike en onregmatige eiendomsregtelike skending gepaard gegaan het. Dit is op hierdie gebied waar die menswaardigheidskending lê. Of verswaarde skadevergoeding deur ’n ontwikkeling in ons gemeenregtelike deliktereg toegelaat moet word, is ’n vraag wat ons vir eers kan systap.

Nou dat ’n mens ’n beter begrip het van wanneer die Ngomane-beginsel van toepassing behoort te wees, en wat dit in regsvergelykende terme beteken, word daar dalk nog gewonder waarom ’n beperkende interpretasie van Ngomane hier voorgestaan word.

Die Konstitusionele Hof het in Pharmaceutical Manufacturers Association of SA: in re ex parte President of the Republic of South Africa 2002 2 SA 674 (KH) par. 44 aangedui dat daar na demokratisering slegs een regstelsel in Suid-Afrika bestaan, naamlik ’n regstelsel onder die gesag van die Grondwet. Daar kan volgens die Konstitusionele Hof nie twee gelyklopende regstelsels bestaan waar een die waardes van die Grondwet omhels en die ander een nie. 

Toegepas op die gemeenregtelike deliktereg, beteken dit dat die deliktereg nie ’n ongrondwetlike boodskap mag uitbasuin nie, want daar is vandag slegs een Suid-Afrikaanse regstelsel. Op ’n meer praktiese vlak beteken dit dat die gemeenregtelike deliktereg toegepas moet word solank as wat dit in ooreenstemming met die doelstellings van die Grondwet is. Waar die gemenereg strydig met enige grondwetlike bepalings is, behoort die gemenereg ontwikkel te word (sien bv. artt. 8 en 39(2) van die Grondwet). Hierdie interpretasie van ’n beginsel van ’n enkele regstelsel gegrond op Pharmaceutical Manufacturers is onlangs ook indirek ondersteun deur die hof in Mboweni asook Komape v Minister of Basic Education 2020 2 SA 347 (HHA).

In Mboweni wou die eisers grondwetlike skadevergoeding eis vir die skending van die reg op ouerlike sorg ingevolge artikel 28. Die Hoogste Hof van Appèl bevind dat die eisers eerder moes steun op gemeenregtelike regshulp in die vorm van ’n eis vir verlies van ’n broodwinner, of, indien daardie remedie te kort skiet aan die gees en doelstellings van die Grondwet, moet die gemenereg in hierdie rigting ontwikkel word (par. 22). 

In Komape word betoog dat grondwetlike skadevergoeding toegeken moet word omdat die gemenereg nie voorsiening maak vir die emosionele verlies (bereavement of grief) van ’n familie wat ’n lid onder tragiese, onregmatige omstandighede verloor nie. Die hof bevind dat die gemenereg wel indirek die emosionele verlies van familielede in ag neem by die toekenning van skadevergoeding weens ’n emosionele letsel. Gevolglik verskaf die gemenereg ’n toepaslike en effektiewe remedie sonder dat grondwetlike skadevergoeding benodig word (parr. 57–63; sien ook Neethling 2020:532–3). Die holistiese prentjie wat geskets word, is dat grondwetlike skadevergoeding ’n remedie van laaste rang is wat slegs gebruik mag word waar ander bestaande (en ontwikkelde) remedies prakties ondoeltreffend blyk te wees (sien ook Zitzke 2019:827–9).

 

5. Slot 

In Ngomane het die wisselwerking van die prosesreg en gemeenregtelike deliktereg nie tot regshulp vir die slagoffers gelei nie. Om die prosesreg te ontwikkel ten einde voorsiening te maak vir ongelikwideerde skadevergoeding sal moontlik die beginselstruktuur van ons prosesreg ontwrig, wat nie noodwendig die doel van hof-gedrewe grondwetlike regsontwikkeling is nie (sien veral Carmichele v Minister of Safety and Security 2001 4 SA 938 (KH) par. 55). Dus was die toekenning van grondwetlike skadevergoeding in werklikheid ’n deliktuele remedie van laaste rang in Ngomane. In die geheel, is Ngomane se bevinding konsekwent met Mboweni en Komape, asook wat ons oor die algemeen kan beskryf as ’n grondwetlik-transformatiewe benadering tot bronne van die deliktereg en regshulp. Om daardie redes word die appèlhofuitspraak verwelkom.

Alhoewel ek geargumenteer het dat Ngomane slegs van toepassing behoort te wees op ’n eng spektrum van soortgelyke feite, vervul die beslissing ’n belangrike rol deur ’n gaping te vul wat deur die prosesreg en gemeenregtelike deliktereg geskep is waardeur slagoffers van regskendings andersins bedroë sou afkom. Ngomane mag egter die grondslag lê vir die ontwikkeling van die gemeenregtelike deliktereg in die toekoms in soverre dit die inlywing van nominale en verswaarde skadevergoeding betref. Ek beklemtoon dat in die geval van nie-dringende aksieprosesse waar nominale en verswaarde skadevergoeding geëis word, ’n gemeenregtelike ontwikkeling eers oorweeg moet word voordat ’n mens op die bus van grondwetlike skadevergoeding spring. Dit is egter moontlik ’n transformatiewe ontwikkeling wat ons gemeenregtelike deliktereg nog in die toekoms sal beleef.

 

Bibliografie

Bailey, J. 2018. Aggravated damages or additional awards of solatium: A distinction without a difference? Edinburgh Law Review, 22(1):29–54. 

Bauer, R.S. 1935. Are small compensatory damages merely nominal? Notre Dame Lawyer, 10(2):133–40.

Beever, A. 2003. The structure of aggravated and exemplary damages. Oxford Journal of Legal Studies, 23(1):87–110.

Berryman, J. 2004. Reconceptualizing aggravated damages: Recognizing the dignitary interest and referential loss. San Diego Law Review, 41(4):1521–50. 

Chaskalson, M., G. Marcus en M. Bishop. 2013. Constitutional litigation. In Woolman en Bishop (reds.) 2013.

Dendy, M. Damages. 2018. The law of South Africa. Vol 14. 3de uitgawe. Durban: LexisNexis. 

Fagan, A. 2019. Aquilian liability in the South African law of delict. Kaapstad: Juta. 

Grealish, M.B. 2018. A dollar for your thoughts: Determining whether nominal damages prevent an otherwise moot case from being an advisory opinion. Fordham Law Review, 87(2):733–66.

Klare, K.E. 1998. Legal culture and transformative constitutionalism. South African Journal on Human Rights, 14(1):146–88.

Muller, G., R. Brits, Z-Z. Boggenpoel en J.M. Pienaar. 2019. Silberg and Schoeman’s the law of property. 6de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Murphy, J. 2010. The nature and domain of aggravated damages. Cambridge Law Journal, 69(2):353–77.

Neethling, J. 2020. Deliktuele vergoeding weens verlies (“bereavement”) as gevolg van ’n sterfgeval in die familie. LitNet Akademies, 17(1):527–35. https://www.litnet.co.za/vonnisbespreking-deliktuele-vergoeding-weens-verlies-bereavement-as-gevolg-van-n-sterfgeval-in-die-familie/.

Neethling, J. en J.M. Potgieter. 2015. Neethling-Potgieter-Visser law of delict. 7de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Okpaluba, C. 2012. Vindicatory approach to the award of constitutional and public law damages: Contemporary Commonwealth developments. Comparative and International Law Journal of Southern Africa, 45(2):127–57.

Slade, B.V. 2019. The effect of avoiding the FNB methodology in section 25 disputes. Obiter, 40(1):36–46.

Theophilopoulos, C., C.M. van Heerden en A. Boraine. 2012. Fundamental principles of civil procedure. 2de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Woolman, S. en M. Bishop (reds.). 2013. Constitutional law of South Africa. 2de uitgawe. Kaapstad: Juta.

Zitzke, E. 2016. Realist evolutionary functionalism and extra-constitutional grounds for developing the common law of delict: A critical analysis of Heroldt v Wills 2013 2 SA 530 (GSJ). Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 79(1):103–20. 

—. 2018a. A “constitutionally wanting” obiter on omissions. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 81(3):497–510.

—. 2018b. “Constitutionally wanting” reasoning in the law of intestate succession: A critique of categorical objectivism, the achievement of inequality, and a jurisprudence of pride. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 1:182–196.

—. 2019. Critiquing the Komape decision. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 4:814–29.

 

Eindnota

1 Vir foto’s van ’n soortgelyke geaffekteerde gemeenskap sien https://www.timeslive.co.za/news/south-africa/2019-02-19-life-under-the-m2-motorway-in-joburg-filth-drugs-hardship-and-love/.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.

The post Vonnisbespreking: Grondwetlike skadevergoeding as "nominale" en "verswaarde" skadevergoeding in dringende aansoeke appeared first on LitNet.

Vonnisbespreking: Quo vadis ondernemingredding?

$
0
0

Vonnisbespreking: Quo vadis ondernemingredding?
National Union of Metalworkers of South Africa obo Members v South African Airways (SOC) Limited (In Business Rescue) saaknr. J424/20 (AH)

Stefan van Eck, Departement Handelsreg, Universiteit van Pretoria
André Boraine, Fakulteit Regsgeleerdheid, Universiteit van Pretoria

LitNet Akademies Jaargang 17(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Abstract

Quo vadis business rescue?

The South African Airways (SAA) has been in business rescue since December 2019. During the rescue process, the business rescue practitioners gave SAA employees a section 189(3) notice to dismiss on grounds of operational requirements in terms of the Labour Relations Act 66 of 1995. In South African Airways Van Niekerk J of the Labour Court held that it was procedurally unfair to issue such a notice before a business rescue plan was tabled in terms of the Companies Act 71 of 2008. This decision was confirmed by Phatshoana J of the Labour Appeal Court. The authors review the historical period during which labour law has influenced the fields of insolvency and company law before they consider whether the Labour Court was correct in its interpretation of the Companies Act. We also mention instances where the Labour Appeal Court placed the emphasis on particular aspects. The South African Airways case is yet another example of where the courts had to grapple with the alignment of the provisions of different legal disciplines and the decisions provide suggestions to business rescue practitioners and policy makers following this ruling. 

Keywords: business rescue plan; business rescue practitioner; business rescue process; Companies Act; dismissal based on operational requirements; Labour Relations Act; section 189(3) notice; South African Airways

Trefwoorde: artikel 189(3)-kennisgewing; Maatskappywet; ondernemingreddingsplan; ondernemingreddingspraktisyn; ondernemingreddingsverrigtinge; ontslag weens operasionele redes; Suid-Afrikaanse Lugdiens; Wet op Arbeidsverhoudinge

 

1. Inleiding

Die Suid-Afrikaanse Maatskappywet 71 van 2008 (die Maatskappywet) is meer as ’n dekade gelede herskryf en is op 1 Mei 2011 in werking gestel (Delport 2019:442). Die oogmerke van die Maatskappywet sluit onder andere in die doeltreffende ondernemingredding en herstel van maatskappye wat finansieel in nood verkeer (art. 7). Hierdie doelstelling gaan hand aan hand met die belangrike beginsels van ekonomiese groei, werkskepping, die behoud van bestaande werksgeleenthede en oorwegings van maatskaplike geregtigheid.

In die saak onder bespreking het regter Van Niekerk van die Arbeidshof onlangs beslis dat ’n ondernemingreddingspraktisyn (reddingspraktisyn) werknemers nie weens operasionele redes mag ontslaan voordat daar ’n ondernemeningreddingsplan (reddingsplan) opgestel is wat vir sodanige afleggings voorsiening maak nie. Hierdie uitspraak is in South African Airways (SOC) Limited (In Business Rescue) v National Union of Metalworkers of South Africa obo Members 2020–07–09 saaknr. JA32/2020 (AAH) gelyk gegee. Die Arbeidshof se uitspraak het felle kritiek ontlok en die doel van die bespreking is om hierdie uitspraak te ontleed en om aanbevelings te maak oor hoe die uitspraak in die praktyk toegepas moet word. Daar word slegs enkele opmerkings oor die Arbeidsappèlhofuitspraak gemaak in soverre dit iets van waarde vir dié bespreking byvoeg.

South African Airways (AH) word teen die agtergrond van tersaaklike beginsels van die insolvensie- en ondernemingreddingsreg bespreek soos dit tans in die Suid-Afrikaanse reg toepassing vind.

 

2. Die status van werknemers in insolvensie en ondernemingreddingsreg 

2.1 Insolvensiereg 

Ongeveer 20 jaar gelede is daar wysigings aan die Insolvensiewet 24 van 1936 aangebring wat onder andere daarop gemik was om die status van werknemers te verbeter in omstandighede wanneer die boedel van die werkgewer gesekwestreer is of in die geval waar ’n maatskappy of beslote korporasie vanweë die onvermoë om skuld te betaal, gelikwideer is (Boraine en Van Eck 2003:1840). Hierdie wysigings is aangewakker deur artikel 23(1) van die Grondwet van 1996 wat die reg op billike arbeidspraktyke as ’n fundamentele reg bevorder (Van Eck, Boraine en Steyn 2004:902). Daar moet ook op gelet word dat Suid-Afrika toe nog nie ’n behoorlike ondernemingreddingskultuur of -proses gehad het wat daarop gerig was om ondernemings wat werksgeleenthede bied, te probeer rehabiliteer eerder as om dit te likwideer nie. Hierdie ontwikkelings het ’n hele paar jaar gelede plaasgevind voordat die Maatskappywet nuwe ondernemingreddingsprosesse na Suid-Afrika gebring het (Loubser 2010:2–3). 

Wat die insolvensiereg aanbetref, het artikel 38 van die Insolvensiewet voorheen bepaal dat dienskontrakte met die aanvang van sekwestrasie of likwidasie van die werkgewer summier en deur regswerking beëindig word. Wat die arbeidsreg betref, het die Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995 (WAV) egter wel gepoog om die status van die werknemers van insolvente werkgewers te beskerm. Artikel 197 het bepaal dat indien die besigheid van ’n insolvente werkgewer na ’n nuwe werkgewer as ’n lopende onderneming oorgedra is, die voormalige werknemers se dienskontrakte na die nuwe werkgewer sou oorgaan. Hierdie bepaling het tot vele uitlegprobleme aanleiding gegee. Artikel 38 van die Insolvensiewet het immers bepaal dat dienskontrakte in die gesketste omstandighede beëindig sou word. Hierdie kwessie het tot verdere regshervorming gelei (vgl. SA Agricultural Plantation & Allied Workers Union v HL Hall & Sons Group Services Ltd (1990) 20 ILJ 399 (AH); Lombard en Boraine 1999:300). 

Voormelde regshervormingsproses was daarop gemik om in die geval van hul werkgewers se insolvensie ’n verbeterde maatskaplike pakket aan werknemers te bied (Kunst e.a. 2019, par. 5.21.10; Bertelsmann e.a. 2019, par. 12.6). Die nuwe pakket het ingesluit dat dienskontrakte na die wysiging van artikel 38 van die Insolvensiewet met die aanvang van sekwestrasie of likwidasie opgeskort word. Die werknemers ontvang voorts werkloosheidversekeringstoelae tydens sodanige periode van opskor­ting, waartydens hulle ook nie hul dienste hoef aan te bied nie. Voormelde artikel 197 van die WAV is ook gewysig om voorsiening daarvoor te maak dat werknemers, of hul verteenwoordigers, geregtig is om kennis van die sekwestrasie- of likwidasie-aansoek te ontvang. Die voormalige artikel 100 van die Insolvensiewet is ook deur artikel 98A vervang wat die voorkeureise van werknemers teen die insolvente boedel van die werkgewer verbeter het. Hierdie pakket het vanaf 1 Januarie 2003 gegeld, hoewel sommige van die bepalings al reeds voor hierdie datum in werking getree het (Boraine en Van Eck 2003 ILJ 1840; Kunst e.a. 2019, par. 5.21.10).

Wat was die beweegrede vir die wysiging van artikel 38 van die Insolvensiewet? Om die vraag te beantwoord, moet eers daarop gelet word dat artikel 38(4) van die Insolvensiewet die finale kurator of likwidateur magtig om dienskontrakte onderworpe aan sub­artikels 38(5) en 38(7) van die Insolvensiewet te beëindig. Die dienskontrakte mag egter nie beëindig word tensy die kurator of likwidateur eers in konsultasies met relevante partye, soos geregistreerde vakbonde, getree het nie met die oog daarop om voorstelle ter behoud of redding van die besigheid te ontvang (art. 38(5)).

Tensy die kurator of likwidateur en ’n werknemer ooreengekom het op die voortgesette indiensneming van sekere werknemers, word alle opge­skorte dienskontrakte outomaties 45 dae na die aanstelling van die finale kurator of likwidateur beëindig (art. 38(6)). Artikel 197A van die WAV bepaal egter steeds dat waar die onderneming selfs in sulke omstandighede as ’n lopende saak aan ’n nuwe werkgewer uit die insolvente boedel oorgedra word, die dienskontrakte (of voormalige dienskontrakte) deur regswerking na die nuwe eienaar oorgedra word.

Ter samevatting moet daarvan kennis geneem word dat hierdie pakket van wysigings bykans 20 jaar gelede, en ook voor die invoering van ondernemingredding in die Maatskappywet van 2008, plaasgevind het. Dit was reeds ’n duidelike boodskap van beleidmakerskant: Onder die vaandel van billike arbeidspraktyke was die vertrekpunt dat werknemers tydens sekwestrasie en likwidasie op beter beskerming geregtig behoort te wees.

2.2 Ondernemingredding

Tesame met ontwikkelings in die insolvensiereg het die Maatskappywet in 2011 ondernemingredding ingevoer wat ook die regte van werknemers voorop stel. Die behoud van werksgeleenthede is van groot belang ingevolge hierdie proses. (Oor die proses in die algemeen, sien Kunst e.a. 2019, hfst. 18.)

Ondernemingredding kan deur ’n besluit van die direkteure of deur ’n hofbevel geïnisieer word (artt. 129 en 131 van die Maatskappywet). Die proses is geskik ? gepas? indien die maatskappy in finansiële nood verkeer en dit blyk dat daar ’n redelike vooruitsig is om die maatskappy te rehabiliteer sodat dit weer as ’n solvente onderneming kan voortgaan, of andersins, indien die instel van die ondernemingredding ’n beter opbrengs aan skuldeisers sal bied as wat die geval sou wees indien die maatskappy gelikwideer sou word (vgl. die art. 128(1)(b) definisie van “ondernemingredding”). ’n Reddingspraktisyn word aangestel wat die beheer en bestuur van die maatskappy oorneem (art. 140). Die direkteure verrig voortaan hul take onder beheer van die reddingspraktisyn. Vanaf die aanvang van die ondernemingredding geld ’n moratorium waartydens skuldeisers nie hul eise teen sodanige maatskappy deur gewone regsprosesse kan afdwing nie (art. 133).

Die hooftaak van die reddingspraktisyn is om binne die raamwerk van die Maatskappywet ’n reddingsplan te ontwikkel en in werking te stel. Die skuldeisers is die hoofbelangegroep wat uiteindelik oor die aanvaarding van die reddingsplan moet stem. Werknemers is egter ook in bepaalde omstandighede ’n kategorie van onafhanklike skuldeisers van die maatskappy wat in dié hoedanigheid ’n stem mag uitoefen. Indien dit vir die reddingspraktisyn sou blyk dat die reddingspoging nie kan slaag nie, moet stappe gedoen word om die maatskappy te likwideer (art. 141(2)).

Werknemers geniet sekere regte ingevolge die bepalings van die Maatskappywet. Eerstens: Werknemers se dienskontrakte wat tydens die aanvang van die ondernemingredding bestaan het, bly van krag behalwe indien dit ingevolge statutêre bepalings beëindig word (art. 136(1) van die Maatskappywet). Tweedens: Werknemers het ’n spesiale voorkeureis met betrekking tot hul vergoeding en ander eise wat na aanvang van ondernemingredding betaalbaar raak, welke bedrae as na-aanvangsfinansiering ’n voorkeur geniet. Derdens: Ten opsigte van sodanige eise wat voor aanvang van die reddingsverrigtinge ontstaan het, word die werknemers as onversekerde voorkeurskuldeisers hanteer. Vierdens: Vakbonde wat enige werknemers van die onderneming verteenwoordig, of daardie werknemers wat nie aldus verteenwoordig word nie, is self ingevolge artikel 144(3)(a)–(f) geregtig op die volgende: 

  • om aan enige hofverrigtinge deel te neem wat tydens die reddingsverrigtinge kan ontstaan
  • om ’n komitee van werknemerverteenwoordigers te vorm
  • om tydens die ontwikkeling van die reddingsplan deur die reddingspraktisyn geraadpleeg te word, en voldoende geleentheid te kry om enige sodanige plan te hersien en ’n voorlegging soos beoog in artikel 152(1)(c) op te stel
  • om teenwoordig te wees op, en ’n voorlegging te doen aan, die vergadering van die houers van stemdraende belange voordat daar oor enige voorgestelde reddingsplan, soos beoog in artikel 152(1)(c), gestem word
  • om tesame met skuldeisers te stem oor ’n mosie om ’n voorgestelde reddingsplan goed te keur, in die mate waarin die werknemer ’n skuldeiser is, soos beoog in subartikel 144 (1)
  • indien die voorgestelde reddingsplan verwerp word, om voorstelle te maak vir ’n alternatiewe plan of om ’n aanbod te maak om die belange van een of meer geaffekteerde persone te verkry, op die wyse soos beoog in artikel 153. 

Die reddingspraktisyn is in die algemeen geregtig om tydens ondernemingredding die werking van kontrakte geheel of gedeeltelik op te skort, of met instemming van die hof te beëindig. Hierdie bevoegdheid geld egter nie ten opsigte van bestaande dienskontrakte nie (art. 136(2)A). Soos in paragraaf 3.4 hier onder volledig bespreek, het die uitleg van artikel 136(1)(a) en (b) egter verskillende vraagstukke na vore gebring.

’n Reddingsplan moet voldoen aan al die voorskrifte van die Maatskappywet en dit moet in beginsel binne 25 besigheidsdae na die reddingspraktisyn se aanstelling gepubliseer word, behalwe indien die hof, of die meerderheid van skuldeisers ingevolge artikel 150(5), tot ’n langer tydperk instem.

’n Vergadering om die toekoms van die maatskappy te bespreek moet binne tien besigheidsdae na publikasie van die reddingsplan gehou word, waarvoor minstens vyf besigheidsdae kennis aan geaffekteerde persone gegee moet word (art. 150(1), (2)). Die reddingsplan kan dan aangeneem word by wyse van ’n stem, en stemdraende belange word bepaal deur die waarde van ’n skuldeiser se eis soos voorsien in artikel 145(4).

2.3 Samevatting

Deur die ontwikkeling van werknemersregte na aanleiding van bogenoemde wysigings aan insolvensieregbepalings en met die invoering van ondernemingredding in die Maatskappywet saam te vat, kan die slotsom bereik word dat daar ’n duidelike klem op die behoud van ondernemings met gepaardgaande werksgeleenthede waargeneem kan word. Werknemers en hul vakbonde geniet besondere beskerming en hulle kan ’n beduidende rol tydens ondernemingredding speel. Artikel 23(1) van die Grondwet het as inspirasie vir hierdie wysigings gedien en dit sou verwag kon word dat dit ook ’n rol sal speel by die uitleg van ondernemingreddingsbepalings in soverre dit werknemers se posisie raak.

 

3. Uitspraak

3.1 Die feite, die regsvraag en die beslissing 

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) verkeer die afgelope aantal jare onder geweldige finansiële druk. In die onlangse verlede het die SAL oorleef slegs omdat sy enigste aandeelhouer, die Suid-Afrikaanse regering, groot bedrae geld in die onderneming gestort het. Die SAL is op 5 Desember 2019 onder ondernemingredding geplaas. Ten einde onkostes te besnoei het die betrokke reddingspraktisyns op 6 Februarie 2020 vlugte en dienste op verskeie internasionale en binnelandse roetes verminder.

Teen middel-Februarie 2020 het die National Union of Metalworkers of South Africa en die South African Cabin Crew Association (applikante, of die vakbonde) ’n dringende aansoek by die Arbeidshof ingedien en aangevoer dat die besluit om vlugte te verminder, nietig was. Die rede hiervoor, so is beweer, was dat die reddingspraktisyns nog nie ingevolge artikel 189(3) van die WAV ’n uitnodigingskennisgewing om oor personeelvermindering te konsulteer, uitgereik het nie. Regter Moshoana van die Arbeidshof wys die aansoek van die hand. Die hof beslis dat alhoewel die reddingspraktisyns aanvaar het dat werkverliese onvermydelik is, hulle nog nie ingevolge artikel 189(3) van die WAV die afdanking van werknemers beoog (contemplate) het nie.

Die reddingspraktisyns het op 9 Maart 2020 ’n artikel 189(3)-kennisgewing uitgereik. Sodanige kennisgewing dien as sneller en voorvereiste vir enige personeelvermindering ingevolge die WAV. Op die oog af moes dié kennisgewing die beswaar van die vakbonde tydens die aansoek om ’n interdik uit die weg geruim het. Weens die SAL se grootte het hierdie beoogde aflegging onder ’n grootskaalse aflegging ingevolge artikel 189A van die WAV geval. Dit het tot gevolg dat die Arbeidshof ’n toesighoudende rol beklee (art. 189A(13)). Hierdie bepaling magtig die Arbeidshof om tydens sodanige afleggings in te gryp deur bevele uit te reik wat ten opsigte van prosedurele onbillike afleggings halt roep.

Soos wetlik voorgeskryf, is senior kommissarisse van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) as fasiliteerders aangestel en die 60-dae- statutêre moratorium op afleggings gedurende die fasiliteringstydperk het in werking getree (art. 189A(3), (7)). Die COVID-19-pandemie het egter die reddingsproses ontwrig. Op 15 Maart 2020 het die President ’n nasionale ramptoestand verklaar wat tot ’n reisverbod en die sluiting van lughawens aanleiding gegee het. Op 20 Maart 2020 het die reddingspraktisyns aangekondig dat die reddingsplan ingevolge die Maatskappywet tot 29 Mei 2020 uitgestel is.

Die KVBA se fasiliteerders het gepoog om bemiddelingsvergaderings tussen die SAL en die vakbonde te belê. Die vakbonde het egter geweier om aan die vergaderings deel te neem. Hulle het aangedring dat die konsultasieproses voortydig was, aangesien die reddingspraktisyns nog nie ’n reddingsplan voorgelê het nie.

Volgens die reddingspraktisyns het die reddingsproses teen daardie tyd reeds misluk. Hulle het tot die slotsom gekom dat daar slegs een van twee opsies was, naamlik enersyds ’n ontbindingsproses (winding-down) wat die beëindiging van werknemers se kontrakte deur middel van ooreenkoms sou behels, of andersyds ’n aansoek om die likwidasie van die SAL (South African Airways AH parr. 9, 19).

Die reddingspraktisyns het intussen ’n aanbod aan SAL-werknemers gerig om vrywillige skeidingspakkette te aanvaar. Enkele werknemers het dit aanvaar. Die vakbonde het egter ’n aansoek by die Arbeidshof ingedien om die vermelde artikel 189(3)- kennisgewing van 9 Maart 2020 tersyde te stel. Dit het die hof genoop om die billikheid van die afleggingsproses onder die loep te neem. 

Die vakbonde het aangevoer dat sowel die aanbod vir vrywillige skeidingspakkette as die konsultasieproses wat op 9 Maart 2020 by die SAL begin is, prosedureel onbillik was. Hulle het geargumenteer dat enige kennisgewing van die aanvang van konsultasies ingevolge artikel 189(3) van die WAV ongeldig, of in die alternatief onbillik is, tensy en totdat ’n reddingsplan vir oorweging aan die skuldeisers aangebied is. Dit was gemene saak dat geen ondernemingreddingsplan op daardie stadium gefinaliseer was nie.

Die kernvraag was dus of ’n reddingspraktisyn wat kragtens die Maatskappywet aangestel is, toegelaat word om werknemers te ontslaan weens die bedryfsvereistes van die werkgewer voordat ’n reddingsplan wat afleggings in die vooruitsig stel, daargestel is. Die reddingspraktisyns het aangevoer dat daar geen beperking op hulle is om die SAL-werknemers af te lê voor die opstel van ’n reddingsplan nie en die vakbonde wou die teendeel bewys. 

Die Arbeidshof het op 7 Mei 2020 uitspraak gelewer waarin die SAL se kennisgewing ingevolge artikel 189(3) van die WAV nietig verklaar is weens die nienakoming van artikel 136(1) van die Maatskappywet. Regter Van Niekerk bevind ingevolge artikel 189A(13) van die WAV dat dit vir ’n reddingspraktisyn prosedureel onbillik is om ’n artikel 189(3)-kennisgewing uit te reik voor die daarstelling van ’n reddingsplan. Die regter verduidelik in ’n obiter dictum dat “it may well be that the production of a business rescue plan, even in draft form is sufficient” (South African Airways AH par 34). Soos reeds vermeld, is hierdie uitspraak op 9 Julie 2020 deur die Arbeidsappèlhof bevestig.

3.2 Jurisdiksie en belange-oorwegings

Die reddingspraktisyns het beweer dat die Arbeidshof nie die magtiging het om aangeleenthede wat uit die Maatskappywet voortspruit, te bereg nie (South African Airways AH par. 4). Dit was hul standpunt dat arbeidshowe se funksies tot die uitleg en toepassing van arbeidswetgewing beperk word. Die Arbeidshof het sonder gewag, en heeltemal tereg, korte mette met die jurisdiksionele argument gemaak. Dit is heeltemal korrek dat Suid-Afrika se arbeidshowe nie met inherente jurisdiksie soortgelyk aan dié van die hoë siviele howe beklee is nie. Gevolglik kan arbeidshowe nie uitvoering aan wetgewing soos die Maatskappywet gee waar sodanige magtiging nie uitdruklik in die wetgewing vervat is nie. Die oorsprong van hierdie aansoek was egter nie die Maatskappywet nie, maar artikel 189A(13) van die WAV, wat aan die Arbeidshof ’n inmiddelse bevoegdheid gee om oor die billikheid, en nie die regmatigheid nie, van werkgewers se afleggingsprosesse toesig te hou. Die Konstitusionele Hof het dit reeds by ’n vorige geleentheid bevestig dat die arbeidshowe se jurisdiksie gemoeid is met die billikheid van werkgewers se optredes en nie met die geldigheid of regmatigheid daarvan nie (vgl. Steenkamp v Edcon Ltd 2016 37 ILJ 564 (KH)). 

Die reddingspraktisyns se volgende argument was dat indien die vakbonde se aansoek in hierdie saak sou slaag, dit die ontbinding, of likwidasie, van die SAL uitstel, wat uiteindelik hul finansiële verknorsing sou verdiep. Dit sou uiteindelik tot skuldeisers en werknemers se nadeel strek (South African Airways AH par. 23). Hul argument het voorts gelui dat indien die afleggings opgeskort sou word totdat ’n reddingsplan voorgelê is, dit dan die belange van werknemers verkeerdelik tot bo dié van ander belanghebbers soos skuldeisers en aandeelhouers sou verhef (South African Airways AH par. 34). 

Die reddingspraktisyns het twee nuwe jurisdiksionele argumente by the Arbeidsappèlhof geopper. Eerstens: Artikel 133(1) van die Maatskappywet verbied enige regsverrigtinge teen ’n maatskappy wat onder ondernemingredding is, tensy die reddingspraktisyns uitdruklik tot sodanige regstappe toestemming verleen. Regter Phatshoane het die onderliggende vraag tot hierdie argument oopgelaat deur te bevind dat die reddingspraktisyns hierdie beswaar reeds tydens die Arbeidshofverrigtinge moes geopper het (South African Airways AAH par. 19). Tweedens: Artikel 189A(17) van die WAV vereis dat enige aansoek ingevolge artikel 189A(13) ingedien moet word binne 30 dae na kennisgewing van die diensbeëindiging van werknemers se dienskontrakte weens ’n aflegging. Die Arbeidsappèlhof het hierdie argument ook verwerp. Regter Phatshoane beslis dat artikel 189A se algemene raamwerk ’n situasie beoog ingevolge waarvan die arbeidshowe ’n oorkoepelende toesighoudingsrol vervul wat enige tyd tydens afleggings uitgeoefen kan word (vgl. South African Airways AAH par. 18; Banks v Coca-Cola SA – A division of Coca-Cola Africa (Pty) Ltd 2007 28 ILJ 2748 AH). Hierdie bykomende argumente voor die Arbeidsappèlhof het derhalwe geen invloed op die uitkoms van die saak gehad nie.

3.3 Grondwetlike uitleg

Regter Van Niekerk benadruk van meet af dat artikel 136(1) doelgerig (purposively) teen die agtergrond van Suid-Afrika se grondwetlike bedeling geïnterpreteer moet word. Artikel 23(1) van die Grondwet bepaal dat elkeen die reg op billike arbeidspraktyke het. Die Konstitusionele Hof het in 2003 bevestig dat werksekerheid (security of employment) ’n onderliggende element van elkeen se reg op billike arbeidspraktyke is (vgl. National Education Health & Allied Workers Union (NEHAWU) v University of Cape Town 2003 3 SA 1 (KH) par. 42). Dit is hierdie vertrekpunt wat die regter oorgehaal het om te bevind dat “if there is an interpretation of s 136(1) that better promotes the preservation of work security, that interpretation ought to be preferred” (South African Airways AH par. 28). Die hof vat voorts Suid-Afrika se hedendaagse wetsuitlegreëls soos volg saam (South African Airways AH par. 26):

In Cool Ideas 1186 CC v Hubbard and Another 2014 (4) SA 474 (CC), the Constitutional Court set out the canons of interpretation of statute in the modern era: ... the words in a statute must be given their ordinary grammatical meaning, unless to do so would result in an absurdity. There are three important interrelated riders to this general principle, namely:

      1. that statutory provisions should always be interpreted purposively;
      2. the relevant statutory provision must be properly contextualised; and
      3. all statutes must be construed consistently with the Constitution, that is, where reasonably possible, legislative provisions ought to be interpreted to preserve their constitutional validity. 

In die bespreking wat volg is dit duidelik dat South African Airways AH presies hierdie metode van wetsuitleg as padkaart gevolg het. Hierdie benadering is in die breë ook deur the Arbeidsappèlhof gevolg. Regter Phatshoane voeg egter by dat dit verkeerd sou wees om ter wille van ’n doelgerigte konstitusionele uitleg die ondubbelsinnige woorde van die Maatskappywet te ignoreer (South African Airways AAH par. 27). Ons sê meer hieroor in paragraaf 3.5. 

Tensy daar met die grondwetlike benadering fout gevind word, sal dit moeilik wees om regverdiging te vind waarom die Arbeidshof se beslissing verkeerd is. Die Grondwet stel dit onomwonde dat alle howe die beginsels soos in die Handves van Menseregte vervat in ag moet neem wanneer wetgewing geïnterpreteer word (art. 39). Artikel 23(1) van die Grondwet maak uitdruklik vir die beskerming van werknemersregte voorsiening, terwyl daar nie soortgelyke voorsiening vir die beskerming van skuldeisers en aandeelhouers se belange in die Grondwet bestaan nie (Van Niekerk en Smit 2019:41).

3.4 Artikel 136(1) van die Maatskappywet

Die artikel waaroor die saak gehandel het, bepaal soos volg:

136. Uitwerking van ondernemingredding op werknemers en kontrakte. – 

(1) Ongeag enige bepaling van ’n ooreenkoms tot die teendeel –

(a) bly werknemers van die maatskappy onmiddellik voor die aanvang van daardie verrigtinge tydens ’n maatskappy se ondernemingreddingsverrigtinge op dieselfde bepalings en voorwaardes in diens, behalwe in die mate dat –

(i) veranderings in die gewone gang van natuurlike afname plaasvind; of
(ii) die werknemers en die maatskappy, ooreenkomstig toepaslike arbeidswetgewing, op verskillende bepalings en voorwaardes ooreenkom; en

(b) is enige afdanking van enige sodanige werknemers beoog in die maatskappy se ondernemingreddingsplan onderhewig aan artikels 189 en 189A van die Wet op Arbeidsbetrekkinge, 1995 (Wet No. 66 van 1995), en ander toepaslike indiensnemingsverwante wetgewing. (Beklemtoning bygevoeg.)

Soos hier bo vermeld, moet woorde van ’n statuut hul normale betekenis gegee word. Regter Van Niekerk beklemtoon dat artikel 136(1) uit twee dele bestaan. In die eerste deel bevestig artikel 136(1)(a) dat alle werknemers van die maatskappy wat onmiddellik voor die aanvang van die ondernemingredding in diens was, geregtig is op dieselfde bepalings en voorwaardes wat voor die proses van toepassing was. Die Arbeidshof verwys hierna as die verstekstand van sake (default position; South African Airways AH par. 26).

In die woorde van 136(1)(a), “[O]ngeag … ’n ooreenkoms tot die teendeel – … bly werknemers van die maatskappy onmiddellik voor die aanvang van daardie verrigtinge … op dieselfde bepalings en voorwaardes in diens.” Met ander woorde, tensy ’n andersluidende ooreenkoms bereik word, mag werknemers nie tydens besigheidsredding afgelê word nie. Daar is egter twee uitsonderings op hierdie beginsel. Dit is toelaatbaar dat “veranderings in die gewone gang van natuurlike afname” mag plaasvind (art. 136(1)(a)(i)) en die werknemers en die maatskappy mag op alternatiewe bepalings en voorwaardes ooreenkom (art. 136(1)(a)(ii)).

Die hof merk op dat daar ’n oënskynlike teenstrydigheid, of spanning, tussen die eerste en die tweede deel van die artikel bestaan. Artikel 136(1)(b) bepaal dat wanneer enige afdanking van werknemers plaasvind, soos “beoog in die maatskappy se ondernemingreddingsplan”, dan moet dit plaasvind onderhewig aan artikels 189 en 189A van die WAV. Hoe word die verstekstand van sake, wat geen afleggings toelaat nie, en die afleggings wat ingevolge die tweede deel vermeld word, met mekaar versoen?

Die vakbonde het geargumenteer dat die tweede deel slegs na afloop van die ondernemingreddingsproses ter sprake kan kom (South African Airways AH par. 33). Artikel 132(2) van die Maatskappywet bepaal dat dit plaasvind wanneer ’n reddingsplan voorgestel en deur die belanghebbendes afgekeur is, of wanneer ’n reddingsplan aanvaar en aan uitvoering gegee is.

Regter Van Niekerk stem nie volkome met die vakbonde se argument saam nie. Die hof was nie daarvan oortuig dat personeelvermindering eers na afloop van die ondernemingreddingsproses mag plaasvind nie. Die regter gee egter die vakbonde gelyk in soverre daar ten minste eers ’n reddingsplan ter tafel gelê moet word wat afleggings in die vooruitsig stel alvorens daar met enige afleggingsproses begin mag word. Artikel 136(1)(b) bepaal immers dat “enige afdanking van enige sodanige werknemers beoog in die maatskappy se ondernemingreddingsplan” aan die bepalings van die WAV moet voldoen. Anders gestel: Daar moet ten minste eers in ’n konsepreddingsplan in die vooruitsig gestel word dat werknemers moontlik om operasionele redes ontslaan kan word, alvorens daar ’n artikel 189(3)-kennisgewing gegee mag word (South African Airways AH par. 34). In hierdie geval het daar nog geen reddingsplan van enige aard die lig gesien nie. Volgens die hof is daar ook geen bepaling in die Maatskappywet wat magtiging verleen dat ’n kennisgewing van beoogde afleggings gegee mag word voordat ’n reddingsplan opgestel is nie (South African Airways AH par. 34).

Die Arbeidshof kom tot die gevolgtrekking dat artikel 136(1)(b) vereis dat die nodigheid om weens operasionele oorwegings te ontslaan noodwendig in die reddingsplan gewortel moet wees. Die reddingspraktisyn is nie by magte om werknemers af te lê indien daar nie ’n reddingsplan is nie. Regter Van Niekerk lê ook klem daarop dat die tweede deel, soos vervat in artikel 136(1)(b), nie soos die ander twee gevalle in subartikels 136(1)(a)(i) en (ii) as ’n uitsondering van die verstekposisie aangedui word nie (South African Airways AH par. 35). Aangesien ’n reddingsplan nie aanvaar is teen die datum waarop die kennisgewing van artikel 189(3) uitgereik is nie, staan die hof die bevel toe wat deur die vakbonde aangevra is. 

Die hof het egter die vakbonde se beswaar teen die ooreenkomste met sommige van die werknemers ingevolge waarvan hulle tot afleggingspakkette ooreengekom het, van die hand gewys. Regter Van Niekerk steun heeltemal tereg op een van die uitsonderings van die verstekstand van sake. Artikel 136(1)(a)(ii) bepaal uitdruklik dat die werknemers en ’n maatskappy op alternatiewe bepalings en voorwaardes mag ooreenkom solank dit nie in stryd met ander wetgewing is nie.

3.5 Oogmerke van die Maatskappywet

Met verwysing na die bekende 1920-Appèlhofsaak, Dadoo Ltd v Krugersdorp Municipal Council 1920 AD 530, 543 bevind die Arbeidsappèlhof dat dit verkeerd sou wees om onder die dekmantel van doelgerigte wetsuitleg die ondubbelsinnige bewoording van bestaande wetgewing te ignoreer (South African Airways AAH par. 21). Regter Phatshoane bevind in wese dat dit vir regters onnodig sou wees om antwoorde in ’n doelgerigte uitleg van artikel 136(1) te soek, aangesien die bedoeling om werknemersbelange tydens reddingsverrigtinge ten alle koste te beskerm, duidelik in die Maatskappywet uiteengesit word.

Die Arbeidsappèlhof verwys onder andere na artikel 136(1)(b) wat bepaal dat wanneer enige aflegging van werknemers plaasvind, dit moet geskied soos “beoog in die maatskappy se ondernemingreddingsplan”. Die hof bevind dat die woorde “‘contemplated in the company’s business rescue plan,’ in my view, signifies the existence of a corporate rescue plan which would conceptualise the commercial rationale for the retrenchments of the employees” (South African Airways AAH par. 31).

Die Arbeidsappèlhof bevind voorts dat artikel 150(2) van die Maatskappywet dit duidelik stel dat die reddingsplan onder andere moet uiteensit wat die gevolg van die redding sal wees op die getal werknemers en hul diensvoorwaardes (South African Airways AAH par. 32). Die hof aanvaar die vakbonde se argument wat behels dat om afleggings toe te laat voordat ’n reddingsplan dit in die vooruitsig stel, soortgelyk daaraan sou wees om die spreekwoordelike kar voor die perde te span (South African Airways AAH par. 26). 

3.6 Wisselwerking tussen die twee konsultasieprosesse 

Daar dien op gelet te word dat sowel die WAV as die Maatskappywet vir konsultasieprosesse met die werknemers of hul verteenwoordigers voorsiening maak. Buiten om te bevind dat daar eers eenstemmigheid oor die inhoud van die reddingsplan ingevolge die Maatskappywet moet wees alvorens die WAV se artikel 189(3)- kennisgewing gelewer mag word, het die arbeidshowe in die South African Airways-sake geen verdere duidelikheid oor die wisselwerking tussen die twee konsultasieprosesse gegee nie. 

Artikel 189(1) van die WAV bepaal dat sodra ’n werkgewer die moontlike aflegging van werknemers voorsien, daar met ’n hiërargie van rolspelers geraadpleeg moet word. Dit moet eerstens geskied met diegene wat in ’n kollektiewe ooreenkoms uitgestippel word. Indien daar geen kollektiewe ooreenkoms is wat die kwessie aanspreek nie, moet met ’n werkplekforum gekonsulteer word. Indien daar geen sodanige forum is nie, moet vakbonde wie se lede moontlik deur die aflegging geraak kan word, geraadpleeg word. In die afwesigheid van enige van die voormelde rolspelers moet die werknemers of hul verteenwoordigers direk geraadpleeg word. Die raadplegende partye moet tydens ’n sinvolle en konsensussoekende proses poog om onder andere ooreenkoms te bereik oor: maatstawwe om die ontslag te vermy of om die aantal werknemers wat daardeur geraak sal word, te verminder; die seleksiemaatstaf vir aflegging; en die skeidingsbetalings vir sodanige werknemers (art. 189(2)). Die sneller vir hierdie proses is egter die skriftelike artikel 189(3)-kennisgewing deur die werkgewer wat die ander partye uitnooi om te konsulteer oor die rede vir die ontslag, die alternatiewe wat die werkgewer oorweeg het, die aantal werknemers wat moontlik geraak sal word en dies meer.

Buiten die inhoud waaroor gekonsulteer moet word, beskryf die WAV ook die prosedure. Die werkgewer moet die ander konsulterende partye die geleentheid gee om voorleggings oor die gemelde aspekte te maak (art. 189(5)). Die werkgewer moet die voorleggings oorweeg en indien daar nie met die voorstelle saamgestem word nie, moet redes verskaf word (art. 189(6)(a)). Indien die werknemers of hul verteenwoordigers skriftelike voorstelle gelewer het, moet die werkgewer ook skriftelik daarop reageer (art. 189(6)(b)). 

Wat ondernemingsredding betref, en soos reeds vermeld, het werknemers of hul verteenwoordigende vakbonde na gelang van die geval en ingevolge die Maatskappywet die reg om met die reddingspraktisyn te vergader om geraadpleeg te word en om insette te gee met die oog op die daarstel van die reddingsplan (art. 148, 149 en art. 150(1)). Ingevolge artikel 148(1) van die Maatskappywet moet die reddingspraktisyn binne 10 dae na sy of haar aanstelling ’n eerste vergadering met werknemerverteenwoordigers belê. Die reddingspraktisyn moet voorsit en tydens die vergadering moet die werknemerverteenwoordigers ingelig word of die praktisyn glo dat daar ’n redelike vooruitsig is om die maatskappy te red. Die werknemers mag ook besluit om ’n werknemerskomitee aan te stel (art. 144(3)(c) gm art. 148(1)(b)). Indien saamgestel, is die werknemerskomitee ingevolge artikel 149 daarop geregtig om:

  • die reddingspraktisyn oor enige aangeleentheid rakende die ondernemingreddingsverrigtinge te raadpleeg sonder om aan die praktisyn voor te skryf of opdragte te gee
  • verslae rakende die ondernemingreddingsverrigtinge namens werknemers te ontvang en te oorweeg 

en moet sodanige komitee onafhanklik van die reddingspraktisyn optree om billike en onbevooroordeelde verteenwoordiging van werknemers se belange te verseker.

Die reddingsplan moet ingevolge artikel 150(2)(c)(ii) die uitwerking, indien enige, vermeld wat die reddingsplan moontlik op die werknemertal en die werknemers se diensbepalings en -voorwaardes sal hê. Werknemers het ook die geleentheid om enige konsepreddingsplan te hersien en is dan ook daarop geregtig om ’n voorlegging, soos beoog in artikel 152(1)(c) van die Maatskappywet, voor te hou wanneer die reddingsplan vir goedkeuring oorweeg word. 

Nóg die Maatskappywet nóg die WAV verwys na die wisselwerking tussen die twee konsultasie- of raadplegingsprosesse nadat ’n onderneming onder ondernemingsredding geplaas is. Daar word egter aan die hand gedoen dat met die saamlees van die twee stukke wetgewing, dit tans ondubbelsinnig vereis word dat daar aan beide wette se voorgeskrewe prosesse voldoen moet word. Na aanleiding van die South African Airways-sake is dit ook vir ons duidelik dat die konsultasieproses ter finalisering van die reddingsplan voor die proses ingevolge die WAV moet geskied. Daar word aan die hand gedoen dat die WAV nie die reddingspraktisyn verhinder om tydens inligtingsessies en raadpleging oor die reddingsplan te vermeld dat afleggings ’n moontlikheid is ten einde byvoorbeeld ’n deel van die onderneming te red nie. Werknemers het egter die geleentheid om insette te gee met die oog daarop om die beste bedeling te probeer daarstel. Dit moet egter in ooreenstemming met die oogmerke van artikel 7 van die Maatskappywet geskied wat vermeld dat ondernemingsredding die regte en belange van alle betrokke belanghebbendes in ag moet neem. Daar moet dus gepoog word om alle belanghebbendes se belange in ewewig te bring. Uiteraard geskied hierdie proses teen die agtergrond van ’n onderneming wat reeds in finansiële nood verkeer en gaan al die belanghebbendes nie noodwendig alles kry waarop hul meen hulle geregtig is nie. Die voortgesette indienshouding van al die werkers en die betaling van alle eise van skuldeisers sal dikwels nie moontlik wees nie. Die afweging van belange geskied teen die agtergrond daarvan om die beste van ’n finansieel slegte situasie te probeer maak. Ten spyte daarvan dat dit tot oënskynlike duplisering van konsultasieprosesse aanleiding gee, is dit belangrik dat die reddingspraktisyn die formele artikel 189(3)-uitnodiging eers na afloop van die konsultasies ingevolge die Maatskappywet waartydens die reddingsplan gefinaliseer word, moet rig.

 

4. Alternatiewe benaderings tot die arbeidshowe se standpunt

Die reddingspraktisyns het betoog dat regter Van Niekerk die benadering behoort te volg wat in ’n ander Arbeidshofbeslissing, Solidarity Obo BD Fourie v Vanchem Vanadium Products (Pty) Ltd; In re: National Union of Metalworkers (NUMSA) Obo Members v Vanchem Vanadium Products (Pty) Ltd 2016–03–22 saaknr. J385/16 & J393/16 (Vanchem), gevolg is. In Vanchem het die Arbeidshof ook ’n aansoek ingevolge artikel 189A(13) van die WAV deur vakbonde oorweeg om die billikheid van ’n personeelverminderingsproses te bepaal. In hierdie geval het die vakbonde ter elfder ure by wyse van ’n gewysigde kennisgewing van mosie die argument geopper dat dit ingevolge artikel 136 van die Maatskappywet onregmatig is om werknemers in die afwesigheid van ’n reddingsplan om operasionele redes af te dank. 

In wat duidelik ’n obiter dictum was, het regter Lagrange in Vanchem ook met die interpretasie van artikel 136(1) geworstel wat ’n oënskynlike teenstrydigheid in subartikels 136(1)(a) en 136(1)(b) bevat. Vanchem het beslis dat die twee inderdaad onversoenbaar is, tensy een van die toelaatbare uitsonderings, naamlik die een wat in artikel 136(a)(i) vervat is, vir personeelvermindering voorsiening maak. Hierdie uitsondering bepaal dat ten spyte van die verstekstatus, dit wel toelaatbaar is dat “veranderings in die gewone gang van natuurlike afname [kan] plaasvind”. Regter Lagrange bevind dat enige regmatige personeelvermindering ingevolge die WAV wel by die begrip natuurlike afname inbegryp moet word (Vanchem par. 36).

Die Arbeidshof was reg om nie op hierdie obiter-benadering van Vanchem te steun nie. Die regter het ondersoek ingestel na die begrip veranderings in die gewone gang van natuurlike afname en het korrek bevind dat dit slegs omstandighede soos aftrede en bedankings insluit, maar nie ook regmatige personeelvermindering ingevolge die WAV nie. (Vgl. South African Airways AH par 29 waar die hof steun op Barker en Holtzhausen 1996:10 se beskrywing van attrition of labour om te beteken “[a] natural decrease in the labour force of an enterprise resulting from, inter alia, the death, retirement or voluntary resignation of employees”.)

In die tweede plek het South African Airways AH terloops daarop gewys dat die artikel 189(3)-kennisgewing in Vanchem se geval uitgereik was en fasilitering reeds ingevolge artikel 189A aan die gang was teen die tyd dat die werkgewer onder ondernemingredding geplaas is (South African Airways AH par. 37). Die regter maak nie groot gewag van die feit dat die artikel 189(3)-kennisgewing voor of na die aanvang van die ondernemingreddingsverrigtinge gegee is nie en dat hierdie ’n aangeleentheid is wat nog deurgetrap sal moet word om te bepaal of dit wel ’n verskil aan afleggings gedurende ondernemingreddings sal maak of nie.

Daar is veral uit die geledere van reddingspraktisyns fel kritiek teen regter Van Niekerk se uitspraak gelewer. Badenhorst en Ray het selfs gesê dat die uitspraak reddingspraktisyns sal ontneem van die reg om afleggings te doen en dat dit die einde van ondernemingredding tot gevolg sal hê (vgl. Badenhorst en Rey 2020)

Die skrywers wys daarop dat die Arbeidshof die regsvraag met artikel 23 van die Grondwet as uitgangspunt oorweeg het en byvoorbeeld nie artikel 140(1)(a) van die Maatskappywet in ag geneem het nie. Hierdie bepaling dra die volle bestuursbeheer oor die maatskappy van sy direksie en voorafbestaande bestuur na die reddingspraktisyn oor. Die bevoegdhede bestaan afgesien van die algemene bevoegdhede ingevolge die Maatskappywet tensy dit uitdruklik deur die wet uitgesluit word. Dus lui die argument dat die reddingspraktisyns net soos die direksie die bevoegdheid het om afleggings in werking te stel, solank hulle aan die bepalings van die WAV voldoen. Hierdie punt lei die skrywers dan daartoe om te vra hoekom artikel 136(1)(b) afleggings sou verbied voor ’n reddingsplan aanvaar is. Dit sou, volgens hulle, meer regte aan die werknemers bied as waaroor hulle voor inwerkingstelling van die ondernemingreddingsverrigtinge beskik het en dus neerkom op ’n verontagsaming van die balansering van regte van al die geaffekteerde persone wat deur die ondernemingredding geraak word.

Volgens Badenhorst en Rey bevestig artikel 136(1)(b) slegs dat indien die aanvaarde reddingsplan voorsiening maak vir afleggings, hierdie artikel bloot bevestig dat die maatskappy steeds die WAV moet nakom vir sodanige afleggings, maar nie die reddingspraktisyn se bevoegdhede in dié verband inkort nie. Hulle verwys ook na artikel 150(2)(c)(ii) van die Maatskappywet wat bepaal dat die voorgestelde reddingsplan die uitwerking, indien enige, wat die plan moontlik op die werknemertal en die werknemers se diensbepalings kan hê, moet uiteensit. Dit sal dus ook voorgestelde afleggings moet bevat. Dus is hul slotsom dat die Maatskappywet nie beoog om afleggings voor die reddingsplan te verbied nie, maar slegs om toe te sien dat afleggings wat in sodanige plan beoog word, nie op onbillike of onregmatige wyse geskied nie. 

Verder wys hulle daarop dat die standpunt van die hof tot gevolg sal hê dat vele ondernemingreddingsverrigtinge voortaan kan faal deur die verdere finansiële druk wat dit op die reddingsproses sal plaas. Dit sal byvoorbeeld tot gevolg hê dat die reddingspraktisyns verdere finansiële verpligtinge met betrekking tot die werknemers sal hê wat die uitgawes sodanig sal verhoog dat die reddingspoging nie meer haalbaar mag wees nie. Dit sal veroorsaak dat reddingspraktisyns nie meer die bevoegdheid sal hê om die interimuitgawes van die maatskappy te besnoei met die oog op die daarstel van die redding van die maatskappy nie.

Die hof se standpunt dat ’n vrywillige skeidingspakket voor die daarstel van ’n reddingsplan deur die reddingspraktisyns aan werknemers aangebied kan word voordat sodanige plan voorgelê is, maar dat aflegging dan volgens die hof verbied is, maak nie vir die skrywers sin nie. Hulle slotsom is dat die werknemers se regte beskerm word, maar dat dit nie ’n moratorium op afleggings insluit soos deur die hof beslis nie. In dié opsig, en om die redes aangevoer, is die uitspraak dus volgens Badenhorst en Rey verkeerd. Nietemin is die standpunte van die skrywers natuurlik nou, en veral na die uitspraak van die AAH, vir eers van bloot akademiese belang. Reddingspraktisyns sal voortaan hul praktyke in die lig van die bestaande uitleg van artikel 136(1)(b) van die Maatskappywet moet rig.

 

5. Ontleding 

Die Arbeidsappèlhof het reeds bevind dat die beslissing van die Arbeidshof korrek was. Daar word betwyfel dat die reddingspraktisyns op konstitusionele gronde teen hierdie uitspraak sal appelleer. Die Arbeidshof het egter ’n aantal belangrike kwessies belig en die laaste woord is nog nie oor hierdie aangeleenthede gespreek nie. 

Die bepalings rakende ondernemingredding is tot die Maatskappywet toegevoeg gedurende ’n ontwikkelingsfase van die Suid-Afrikaanse reg waartydens werknemersregte uitgebrei is, en aansluitende dissiplines soos insolvensiereg en maatskappyreg is sterk hierdeur beïnvloed. Dit behoort reddingspraktisyns dus nie te verras dat bepalings soos hierdie in die Maatskappywet grotendeels vir werknemers, en nie die skuldeisers en die aandeelhouers nie, sal bevoordeel.

Bykomend hiertoe skep die Grondwet ’n raamwerk vir wetsuitleg wat noukeurig deur die Arbeidshof nagevolg is. Die Handves vir Menseregte plaas besondere klem op die beskerming van werknemersregte, en dieselfde kan nie ten opsigte van die regte van werkgewers, skuldeisers en aandeelhouers gesê word nie. Soos deur die Arbeidsappèlhof beklemtoon is, is die bewoording van die Maatskappywet duidelik in soverre dit werknemersregte tydens reddingsverrigtinge voorop stel. 

Dit is egter ons standpunt dat die wetsopstellers van die reddingsbepalings in die Maatskappywet wel groter duidelikheid ten opsigte van die wisselwerking van die artikel 189(3)-kennisgewing in die WAV en die totstandkoming van die reddingsplan kon gebied het. Hierdie toedrag van sake het daartoe aanleiding gegee dat die verantwoordelikheid om een of ander sinvolle uitleg aan twee oënskynlik botsende bepalings in artikel 136(1) met mekaar te versoen, op die skouers van ons regters geplaas is. In konteks van die spesifieke bewoording van die Maatskappywet teen die agtergrond van Suid-Afrika se wetsuitlegmodel kan daar egter nie fout gevind word met die uitspraak nie.

Soos sake tans staan, is dit duidelik dat reddingspraktisyns wel onder verhoogde druk geplaas word. Wanneer die verpligtinge van werkgewers in normale omstandighede by personeelvermindering ingevolge die WAV met dié van reddingspraktisyns tydens ondernemingredding met mekaar vergelyk word, is daar duidelik meer vereistes wat op reddingspraktisyns geplaas word. Tydens artikel 189-afleggings is daar bloot ’n verpligting om kennis van beoogde afleggings te gee; daar moet behoorlik met die aangewese verteenwoordigers gekonsulteer word en alternatiewe tot afleggings moet behoorlik oorweeg word. Daar word egter geen addisionele verpligting op hulle geplaas om eers op ’n volhoubaarheidsplan, of ’n ooreenkoms dat dit nodig is om af te lê, of iets dergeliks, tot stand te bring nie. Buiten die vereistes van artikel 189 waaraan voldoen moet word, word dit tans van reddingspraktisyns verwag om ’n reddingsplan te formuleer alvorens daar met afleggings begin mag word.

Daar dien op gelet te word dat regter Van Niekerk bloot aangedui het dat ’n kennisgewing deur die reddingspraktisyn om ’n konsultasie ingevolge artikel 189 of 189(A) te lewer voortydig sou wees en prosedurele onbillikheid sou daarstel in die afwesigheid van ’n reddingsplan. Die regter het egter versuim om dit duidelik te maak of sodanige plan ’n reddingspraktisyn se voorgestelde plan sou kon insluit, en of dit slegs ’n reeds goedgekeurde plan behels (South African Airways AH par. 34). Dit kom dus voor of daar onduidelikheid oor hierdie belangrike aspek kan ontstaan wat óf deur verdere gewysdes óf deur die wetgewer uit die weg geruim sal moet word.

Dit is nie die taak van ons regters om beleidsoordele te vel oor die vraag of die reddingsmodel waarop die argitekte van die Maatskappywet ooreengekom het, goed of sleg vir die instelling van ondernemingredding is nie, selfs al steek daar waarheid in Badenhorst en Rey se waarskuwings dat die interpretasie wat die hof aan artikel 136(1) van die Maatskappywet verleen het, ’n groot terugslag vir ondernemingredding sal wees aangesien die belange van werknemers, skuldeisers en aandeelhouers nie gepas gebalanseer word nie. Dit bly immers die rol van beleidsmakers en nie van ons regters nie om sodanige beleidsake reg te stel.

Dit kan egter toegegee word dat ’n moontlike punt van kritiek teen die uitspraak kan wees dat ten spyte van die standpunt van die hof dat dit slegs die rol van die Arbeidshof is om die billikheid van afleggingsprosesse te evalueer, die hof hoofsaaklik op regmatigheids- en wetlikheidsoordele konsentreer. Die hof kon egter, soos wat dit in billikheidsondersoeke gepas is, op al die omringende omstandighede ag geslaan het. Die hof het byvoorbeeld nie veel klem gelê op die feit dat dit die vakbonde se aanvanklike beswaar was dat daar geen artikel 189(3)-kennisgewing gegee is voordat vlugte gekanselleer is nie. Dit is ook nie in die uitspraak in ag geneem dat die vakbonde duidelike pogings aangewend het om die fasiliteringsprosesse deur die KVBA in die wiele te ry nie.

Soos aangetoon, word die uitspraak van die Arbeidshof, soos deur die Arbeidsappèlhof gehandhaaf, wel in beginsel gesteun. Daar is belangrike lesse vir reddingspraktisyns in die uitsprake opgesluit. Ten spyte van die duidelikheid wat die uitsprake van die arbeidshowe gebring het, is daar steeds aspekte wat die wetgewer beter kan reguleer, soos hier onder kortliks aangedui.

 

6. Quo vadis reddingspraktisyns?

Vir solank die uitspraak staan – en die kans is goed dat dit nie verder op appèl geneem sal word nie – word daar aan die hand gedoen dat reddingspraktisyns groter dringendheid aan die opstelling en vrystelling van reddingsplanne moet gee, asook om sover redelikerwys moontlik by die voorgeskrewe tydraamwerke van die reddingsverrigtinge te hou. Daar moet duidelik gestel word dat afleggings voorsien word, maar nie ’n uitgemaakte saak is nie. Uit die aard van die saak sal die plan ook vermeld dat enige afleggings, indien dit sou plaasvind, onderhewig aan die WAV se billikheidsoorwegings sal geskied. In hierdie konteks word ook voorgestel dat reddingspraktisyns steeds geen keuse het as om wel met die werknemers soos in die Maatskappywet voorgeskryf, te konsulteer nie. Dit is ons standpunt dat dit nie noodwendig gesien kan word as ’n konsultasie met die oog op beëindiging van die dienskontrakte nie, maar dat die doel is om die werknemers in te lig en ook hul insette met betrekking tot die reddingsverrigtinge te bekom. Trouens, die reddingspraktisyn is verplig om sodanige konsultasies te voer.

Voorts, indien dit duidelik word dat werknemersverteenwoordigers geensins daarvoor te vinde is dat afleggings deel van die verrigtinge vorm nie, en dat die nodige steun tydens stemmingsvergaderings nie van die skuldeisers sal kom nie, behoort reddingspraktisyns dringend die balansstaat van die ondernemingredding aan te pas. Indien daar dan geen redelike vooruitsig bestaan om die maatskappy te red sonder om reeds vroeër afleggings te oorweeg nie, soos dit blykbaar die praktyk voor die uitspraak was, behoort reddingpraktisyns likwidasie te oorweeg soos in artikel 142(2)(a) voorsien. 

Dit kan natuurlik gebeur dat artikel 189-kennisgewings reeds voor reddingsverrigtinge ’n aanvang neem, aan werknemers gestuur word. Enersyds sal dit in so ’n geval dan moontlik ook ’n vraag word of die reddingspraktisyn met die proses kan voortgaan, en daar word aan die hand gedoen dat die implikasies van die uitspraak in die South African Airways AH-saak ook in dié geval oorweeg sal moet word wanneer die geleentheid voorkom. Andersyds word aan die hand gedoen dat sodanige proses nie aangemoedig moet word en dalk met voorbedagte rade geïnisieer word voor aanvang van reddingsverrigtinge in die hoop dat dit die uitleg in die saak onder bespreking sal fnuik nie. Daar is geen waarborg dat so ’n vooraf kennisgewing enige invloed op die interpretasie van artikel 136 sal hê nie en die arbeidshowe sal waarskynlik deur die manipulasie van prosesse sien indien dit nie in die normale gang van sake gebeur het nie.

 

7. Slotsom en aanbevelings

Daar moet toegegee word dat daar wel duidelike en logiese gronde bestaan vir die uitspraak in die South African Airways AH-saak. Wat die gesketste uitlegprobleem met die tersaaklike bepalings van die Maatskappywet betref, en gelees teen die agtergrond van die beskerming van werknemers, is daar sin in om aan te voer dat by reddingsverrigtinge die Maatskappywet wel verg dat daar ten minste ’n reddingsplan moet wees voordat aflegging gestalte kry. Ons stel egter voor dat dit belangrik is dat daar ook duidelikheid moet kom oor die vraag wat die status moet wees van die plan ingevolge waarvan afleggings geskied. Dit sal waarskynlik meer sin maak dat die wet eerder na ’n goedgekeurde as ’n voorgestelde plan moet verwys. Dit sal moontlik die taak van die wetgewer word om duidelikheid hieroor te bring.

Soos aangetoon, bestaan daar egter ook strydige argumente. Die reddingspraktisyn word, anders as die bestuurders van die maatskappy voor die inwerkingstelling van die reddingsverrigtinge, nie direk aan bande gelê om met afleggings te begin – selfs al is ’n artikel 189(3)-kennisgewing uitgereik – voordat daar ’n reddingsplan ter tafel gelê is nie. Daar word egter aan die hand gedoen dat daar steeds verder aandag aan die kwessie deur die wetgewer verleen moet word.

Soos in paragraaf 2 aangetoon, het daar gedurende die afgelope 20 jaar ’n nuwe benadering met betrekking tot die hantering van dienskontrakte na sekwestrasie of likwidasie ontwikkel. Soos beskryf, in die geval van insolvensie skort sekwestrasie of likwidasie bestaande dienskontrakte op wat egter wel na die aanvang daarvan beëindig kan word deur die kurator of likwidateur of deur regswerking sonder dat daar enige artikel 189(3)-kennisgewings gegee hoef te word. Die dienskontrak kan egter wel gered word indien die besigheid gered sou kon word en waar dit as lopende onderneming aan ’n nuwe werkgewer vanuit die insolvente boedel van die sogenaamde ou werkgewer sou oorgaan. Dit gebeur ook ten opsigte van dienskontrakte wat reeds ingevolge die werking van artikel 38 van die Insolvensiewet verval het. Dit is duidelik dat in die geval van insolvensie van die werkgewer ’n artikel 189(3)-kennisgewing geen doel dien nie, want sekwestrasie of likwidasie is in beginsel ’n aanduiding dat voortsetting van sodanige kontrakte basies onmoontlik is.

Nietemin, dié aspek word nie deur die Maatskappywet behandel nie en intussen is dit duidelik dat afleggings in die reël steeds ingevolge artikel 189 van die WAV behoort te geskied. Daar word voorts voorgestel dat die Maatskappywet in dié opsig, en ook in lig van die South African Airways AH-saak, gewysig kan word deur byvoorbeeld duidelik aan te toon dat afleggings mag plaasvind slegs nadat ’n reddingsplan reeds aanvaar is. Maar daar behoort nietemin ook deeglik besin te word oor die vraag of dit in alle gevalle wenslik is, en of die reddingspraktisyn nie in bepaalde gevalle waar dit noodsaaklik blyk te wees om die maatskappy uiteindelik van likwidasie te red, tog voor daardie stadium reeds met formele afleggings kan begin nie.

Indien insolvensieverrigtinge met formele reddingsverrigtinge vergelyk word, moet daar ook aanvaar word dat laasgenoemde verrigtinge ingestel word wanneer die maatskappy in finansiële nood verkeer en dit reeds die risiko loop om dalk vorentoe gelikwideer te word. Die vraag kan dus gevra word of die aanvang van ondernemingredding nie op sigself geag behoort te word ’n tipe artikel 189(3)-kennisgewing te wees nie, gesien teen die agtergrond van die finansiële nood waarin die maatskappy verkeer. Dit kom voor of daar moontlik onnodige duplisering van konsultasies kan wees indien daar voor die voorlegging van die plan ingevolge die Maatskappywet oor die daarstel van die plan met werknemers gekonsulteer moet word en dan weer nadat die plan aanvaar sou wees oor die afleggings waartydens die artikel 189-prosesse van die WAV gevolg moet word. Daar word aan die hand gedoen dat hierdie belyning en moontlik ook die bevoegdhede van die reddingspraktisyn in ’n ondernemingreddingsituasie straks heroorweeg behoort te word.

In dié verband kan daar ook kennis geneem word van Loubser (2010:122–3) waar sy in haar doktorale proefskrif, wat reeds lank voor die gewysde onder bespreking geskryf is, soos volg redeneer: 

Although this is clearly foreseen in this provision, there is no attempt to assist the practitioner in the process. If a business rescue practitioner wants to retrench employees or change their conditions of service, he has to follow the full procedure prescribed by the Labour Relations Act that a solvent and healthy company has to follow – even if these retrenchments are in terms of the rescue plan. Although I am not arguing for the same situation as in liquidation, I believe that at least if the retrenchments are part of a rescue plan, some attempt should have been made to facilitate unavoidable retrenchments. Just as in the case of judicial management, liquidation now remains the easier option if retrenchments are inevitable.

(Vgl. Joubert 2018:73 vir soortgelyke waarnemings met verwysing na verskeie ander jurisdiksies.) 

Die kwessie rakende die status van artikel 189(3)-kennisgewings wat reeds voor die aanvang van reddingsverrigtinge uitgereik is, behoort tydens die daaropvolgende reddingsverrigtinge ook aandag te geniet. 

Die vraag moet ook nog beantwoord word of die moratorium op regsverrigtinge tydens reddingsverrigtinge ingevolge die Maatskappywet ook die arbeidshowe aan bande behoort te lê of nie. (Vgl. Joubert 2018:72 waar vermeld word dat “[t]he interplay between the section 133 moratorium and labour-related matters became the subject of various court cases and created uncertainty and confusion as to the effect that the moratorium will have on employment contracts and claims by employees”.)

Nietemin, dit sal die taak van die wetgewer wees om op goeie gronde sodanige aspekte te oorweeg. Intussen sal reddingspraktisyns moet uitvoering gee aan die implikasies van die uitspraak. Daar word toegegee dat dit nie altyd moontlik gaan wees om by die voorgeskrewe tydperke vir die verskillende fases van die oorweging, opstel en aanvaarding van die reddingsplan te hou nie en dat uitstel verleen kan word, soos dikwels die geval is, maar dit moet deurgaans onthou word dat dit ’n belangrike faktor bly en in ag geneem moet word by die hantering van bestaande dienskontrakte deur die reddingspraktisyn. 

Ten slotte is dit dus duidelik dat die aangeleentheid herbedink moet word en dat daar ’n logiese en sinvolle statutêre reëling daargestel moet word.

 

Bibliografie

Badenhorst, W. en C. Rey. 2020. COVID-19 – NUMSA v SAA – The death knell to successful business rescue? https://www.bdo.co.za/en-za/insights/2020/covid19/covid-19-numsa-v-saa-the-death-knell-to-successful-business-rescue (27 Junie 2020 geraadpleeg).

Barker F. en M. Holtzhausen. 1996. South African labour glossary. Kenwyn: Juta.

Bertelsmann, E., R.G. Evans, A. Harris, M. Kelly-Louw, A. Loubser, M. Roestoff, A. Smith, L. Stander. 2019. Mars: The law of insolvency in South Africa. Kaapstad: Juta.

Boraine, A. en B.P.S van Eck. 2003. The new insolvency and labour legislative package: How successful was the integration? Industrial Law Journal, 24:1840–68.

Delport, P.A. 2019. Henochsberg on the Companies Act of 2008 (2019-bywerking). Durban: LexisNexis. 

Joubert, E.P. 2018. A comparative study of the effects of liquidation or business rescue proceedings on the rights of the employees of a company. LLD-proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika.

Kunst, J.A., A. Boraine en D.A. Burdette. 2019. Meskin: The law of insolvency. Durban: LexisNexis.

Levenstein, E. 2019. South African business rescue procedure (2019-bywerking). Durban: LexisNexis. 

Lombard, S. en A. Boraine. 1999. Insolvency and employees. De Jure, 32:300–14. 

Loubser, A. 2010. Some comparative aspects of corporate rescue in South African company law. LLD-proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika.

Van Eck, B.P.S., A. Boraine en L. Steyn. 2004. Fair labour practices in South African insolvency law. South African Law Journal, 121(4):902–25.

Van Niekerk, A. en N. Smit. 2019. Law@work. Durban: LexisNexis.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Vonnisbespreking: Quo vadis ondernemingredding? appeared first on LitNet.

BEd Grondslagfase-afstandsleerstudente se ervaring van administratiewe ondersteuning aan die Noordwes-Universiteit

$
0
0

BEd Grondslagfase-afstandsleerstudente se ervaring van administratiewe ondersteuning aan die Noordwes-Universiteit

Benita Taylor, Willie van Vollenhoven en Annemarie Loubser, Fakulteit Opvoedkunde, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)

LitNet Akademies Jaargang 17(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Menige studente van regoor Suid-Afrika en Namibië verwerf jaarliks ’n kwalifikasie aan die Noordwes-Universiteit (NWU) deur middel van afstandsleer.

Die NWU ondersteun afstandsleerstudente met die suksesvolle voltooiing van afstandsleerstudie en beskou administratiewe ondersteuning as ’n prioriteit, aangesien afstandsleerstudente oor die algemeen vele uitdagings ervaar.

Die doel van hierdie studie was om ondersoek in te stel na BEd Grondslagfase-afstandsleerstudente se ervaring van administratiewe ondersteuning aan die NWU, met die fokus op administratiewe voordele wat ervaar word tydens die voltooiing van ’n kwalifikasie aan die NWU. Die administratiewe ondersteuning wat bespreek word, sluit in dienslewering aan studente, studiemateriaal, registrasie, inbelsentrums, leerondersteuningsentrums, eFundi (leerbestuurstelsel) en die gebruik van interaktiewe witborde.

Ten einde die bovermelde navorsingsdoelstelling te bereik, is ’n empiriese ondersoek uitgevoer. ’n Kwalitatiewe benadering is gevolg en deelnemers is uitgenooi om deel te neem aan die navorsing. Data is deur middel van ’n elektroniese vraelys, bestaande uit oop vrae, ingesamel. Die elektroniese vraelys (in Afrikaans en Engels) is vergesel van ’n brief om die doel van die studie en vraelys aan die deelnemers te verduidelik. Aangesien terugvoer anoniem was, het die studentedeelnemers die geleentheid gehad om openlik oor hulle ervaring van die administratiewe ondersteuning tydens die voltooiing van die BEd-afstandsleerprogram te reflekteer.

Terugvoer wat deur middel van die vraelys ingesamel is, is deur middel van Atlas.ti™ ontleed. Koderingswoorde is geformuleer om ooreenstemmende eenhede of segmente in die transkripsies te identifiseer. Bevindinge het getoon dat afstandsleerstudente aan dié studie ’n positiewe leerervaring met betrekking tot administratiewe ondersteuning beleef het. Hierdie bevindinge strook ook met tersaaklike literatuur in die veld, nasionaal en internasionaal, wat aanvoer dat goeie administratiewe ondersteuning lei tot ’n positiewe leerondervinding.

Na aanleiding van die bevindinge word daar eerstens aanbevelings gemaak wat deur die NWU oorweeg kan word ten einde die ervaring van voornemende afstandsleerstudente te verbeter en effektiewe dienslewering te verseker sodat dié studente hulle studies suksesvol kan voltooi. Tweedens lewer die bevindinge ’n bydrae op nasionale en internasionale terrein oor die waarde van effektiewe administratiewe dienslewering en ondersteuning ten einde ’n positiewe leerervaring aan die afstandstudent te verseker.

Trefwoorde: afstandsleer; Baccalaureus Educationis (BEd); Eenheid vir Oop Afstandsleer (EOAL); elektroniese leer; fasiliteerder; Grondslagfase; leerondersteuningsentrum; Noordwes-Universiteit (NWU); uitdagings tot leer

 

Abstract

The experiences of BEd Foundation Phase distance learning students pertaining to administrative support provided by the North-West University

Annually numerous students from all over South Africa and Namibia obtain qualifications via distance learning from North-West University (NWU).

NWU provides support for students to successfully complete their studies via distance learning. Administrative support is considered a priority, since distance learning students generally face various challenges.

The purpose of this study was to investigate the experiences of BEd Foundation Phase distance learning students pertaining to administrative support of NWU, with the focus on administrative benefits during the completion of a qualification with NWU. Administrative support areas that will be discussed include service delivery to students, study material, registration, call centres, learning support centres, eFundi (learning management system) and the use of interactive whiteboards.

In order to achieve the above-mentioned research aim, empirical research was conducted. A qualitative approach was applied and participants were invited to be part of the research. Data were gathered by means of electronic questionnaires comprising open-ended questions. The electronic questionnaire (in Afrikaans and English) was accompanied by a letter explaining to participants the purpose of the study and the questionnaire. Since feedback was anonymous, student participants had the opportunity to reflect openly and honestly on their experiences of administrative support while completing their BEd studies with NWU via distance learning.

The returned questionnaires were analysed with Atlas.ti™. Coding words were formulated to identify concurrent units or segments in the transcriptions. Results showed that distance learning students in this programme reported positive experiences pertaining to support during their studies. These findings concur with literature in this field, nationally as well as internationally, which asserts that good administrative support leads to positive learning experiences.

Arising from the findings, recommendations are made which NWU can consider in order to improve the learning experience of prospective distance learning students and enable them to successfully complete their studies. Secondly, the findings contribute nationally as well as internationally towards accepting the importance of effective administrative service and support to ensure a positive learning experience for the distance learning student.

Key words: Baccalaureus Educationis (BEd); challenges in learning; distance learning; electronic learning; facilitator; Foundation Phase; learning support centre; North-West University (NWU); Unit for Open Distance Learning (UODL)

 

1. Inleiding

Volgens die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO 2014:11) verwerf twee-vyfdes van studente wat aan Suid-Afrikaanse universiteite studeer hulle kwalifikasies deur middel van afstandsleer. Afstandsleer is ’n afleweringsmodus wat fokus op die ondersteuning en aanbied van onderrig- en leerstrategieë aan studente wat nie voltyds op kampus aan ’n universiteit kan studeer nie. Afstandsleer bied aan studente die geleentheid om die kurrikulum by ’n spesifieke leerondersteuningsentrum of selfs tuis te volg en te voltooi (DHOO 2014:11; Simonson, Smaldino en Zvacek 2015:7; NWU 2020a:8).

Afstandsleer skep buigsame leergeleenthede vir studente en oorbrug uitdagings, wat onder meer tyd en plek kan insluit (DHOO 2014:11). Ally en Khan (2015:5) verwys na afstandsleer as ’n metode van leer waar studente teen hulle eie tempo en binne hulle eie ruimte kan studeer.

Volgens die Raad op Hoër Onderwys (RHO 2014:33) moet afstandsleerstudente voldoende ondersteuning vanaf die universiteit kry, soos duidelike en ondubbelsinnige verduidelikings en riglyne wat ook illustratiewe voorbeelde kan behels. Indien studente duidelike instruksies kry, weet hulle presies wat van hulle verwag word. Opdragte aan studente moet baie duidelik uiteengesit word om moontlike verwarring uit te skakel. Instruksies moet stapsgewys in fyn besonderhede uiteengesit word vir elke opdrag asook vir administratiewe prosesse, bv. registrasie, die gebruik van leerondersteuningsentrums en interaktiewewitbordsessies. In lyn hiermee moet riglyne vir inhandiging en inhandigingsdatums van opdragte ook baie duidelik aangedui word. Eenvoudige en verstaanbare riglyne oor die gebruik van ’n elektroniese platform en die aantal aktiwiteite of opdragte moet verskaf word. Sperdatums moet haalbaar wees; studente moet nie oorlaai word nie; en interaksie tussen dosent en student en interaksie tussen studente moet aangemoedig word (RHO 2014:43–5). Voldoende administratiewe ondersteuning is van kardinale belang vir die suksesvolle voltooiing van ’n afstandsleer kwalifikasie.

In Oktober 2016 was daar ’n totaal van 34 832 opvoedkundestudente aan die Noordwes-Universiteit (NWU 2017) se Potchefstroomkampus geregistreer, waarvan 31 706 afstandsleerstudente en 3 126 voltydse studente was (NWU 2017). Aangesien die oorgrote meerderheid van studente aan die Fakulteit Opvoedkunde deur middel van afstandsleer hulle kwalifikasies verwerf, is dit belangrik dat die gehalte van sowel afstandsleerprogramme as administratiewe dienslewering (ondersteuning) aan studente voortdurend gemoniteer moet word ten einde kwaliteit en ’n positiewe studente-ervaring te verseker (DHOO 2014:11).

Weens die feit dat die afstandsleerstudente van die kampus verwyder is, kan daar moontlik heelwat uitdagings tydens afstandsleer ervaar word. Daarom is dit belangrik dat universiteite oor stelsels beskik wat verseker dat uitdagings wat tydens afstandsleer ervaar mag word, oorkom kan word (Roddy, Amiet, Chung, Holt, Shaw, McKenzie, Garivaldis, Lodge en Mundy 2017:5).

Alle universiteite of instellings wat afstandsleerprogramme aanbied moet vooraf beplan hoe daar aan studente se behoeftes voorsien gaan word en hoe dié studente ondersteuning moet ontvang betreffende kostes, tegnologie, studiemateriaal, fasilitering en hulpmiddels wat van belang is om uitdagings hok te slaan en afstandsleerprogramme suksesvol af te lewer (Spamer 2017:16). Spamer verduidelik verder dat afstandsleer heelwat voordele inhou, maar dat geografiese, persoonlike asook kommunikatiewe uitdagings wat studies bemoeilik voorkom moet word. Dit word gedoen deur middel van hulpmiddels soos toegang tot tutoriale briewe en fasiliteerders, wat bydra tot die suksesvolle aflewering van afstandsleerprogramme.

Die fokus van hierdie artikel is BEd Grondslagfase-afstandsleerstudente se ervaring van die administratiewe ondersteuning aan die NWU en het ten doel om aanbevelings in hierdie verband spesifiek aan NWU te maak, maar ook om by te dra tot die literatuur in die veld van afstandsonderrig.

 

2. Konsepverklaring

2.1 Afstandsleer

Simonson, Smaldino en Zvacek (2015:7) verduidelik dat afstandsleer as ’n metode van leer gesien word waartydens daar van tegnologie, byvoorbeeld e-pos en die internet, as kommunikasiemiddel gebruik gemaak word om onderrig te ontvang in die plek van direkte kommunikasie waar dosente en studente mekaar in die klaskamer ontmoet. Studente is dus geografies afgeleë van die universiteit, dosent(e) en ander studente (Simonson en Seepersaud 2019:4–6).

2.2 Afstandsleerstudente

Die afleiding kan gemaak word dat persone wat afstandsleer as metode van leer volg en die geleentheid gebied word om ’n kwalifikasie in die gemak van sy/haar eie omgewing te verwerf, dit doen weens onder andere geografiese afstande en voltydse werk wat hul verhoed om in persoon by die universiteit aangesig-tot-aangesig-onderrig by ’n dosent te ontvang.

2.3 Oop afstandsleer

Oop afstandsleer word omskryf as ’n administratiewe sisteem wat studente die geleentheid bied om op enige gegewe tyd van die jaar aansoek te doen om aan die begin of middel van die jaar te registreer om hulle gekose studies te onderneem, mits hulle aan die minimum vereistes voldoen (NWU 2020a:4), vandaar die benaming oop afstandsleer.

2.4 Baccalaureus Educationis (BEd) Grondslagfase

Baccalaureus Educationis (BEd) Grondslagfase is ’n professionele kwalifikasie waaroor Grondslagfase-onderwysers beskik. Die BEd Grondslagfase-graad rus die onderwyser toe met die nodige kennis en vaardighede om graad R–3 te onderrig. In hierdie studie is daar gefokus op die ervaring van die afstandsleerstudente wat spesifiek vir die BEd Grondslagfase-graad geregistreer is (NWU 2020b:35).

2.5 Eenheid vir Oop Afstandsleer (EOAL)

Die EOAL is ’n administratiewe afdeling by Noordwes-Universiteit, geleë op die Potchefstroomkampus, wat fakulteite by NWU ondersteun met die aflewering van afstandsleerkwalifikasies by verskeie leerondersteuningsentrums regoor Suid-Afrika (NWU 2020a:4).

2.6 Leerondersteuningsentrums

Leerondersteuningsentrums is fasiliteite wat geïdentifiseer is om studente te ondersteun en toegang te verleen tot dit wat studente nodig het om hulle studies suksesvol te voltooi. Geregistreerde studente het toegang tot hierdie fasiliteite waar hul rekenaars, internet en ook ’n minibiblioteek gratis kan gebruik. Hulle kan ook opdragte by hierdie sentrums indien en eksamens daar aflê (NWU 2020b:37–8).

2.7 Uitdagings tot leer

Uitdagings tot leer verwys na hindernisse of struikelblokke wat ervaar word wat suksesvolle leer verhinder. Om suksesvolle leer te verseker moet die nodige ondersteuning gebied word om die hindernisse te oorkom (Bell en Chris 2016:190; De Hart, Chetty en Archer 2015:18–45).

2.8 Administratiewe ondersteuning

Administratiewe ondersteuning is ondersteuning wat die universiteit aan die afstandsleer student bied om te verseker die student kan akademies vorder, en sluit ’n verskeidenheid komponente in. Die administratiewe ondersteuning sluit die nodige inligting in om elektronies aansoek te doen, studiemateriaal te ontvang asook om tegnologiese uitdagings te oorkom wat die student kan verhinder om akademies te vorder. Volgens Roddy e.a. (2017:6) is oriënteringsessies van kardinale belang vir afstandsleerstudente om te verseker dat hulle die nodige inligting en hulp vanaf die universiteit ontvang om uitdagings te oorkom.

Die artikel begin met ’n bespreking van tendense van internasionale afstandsleeronderrig.

 

3. Internasionale afstandsleerneigings

Afstandsleer is ’n modus van onderrig wat meer gewild raak weens uitdagings wat wêreldwyd ervaar word, en verhoog die toeganklikheid tot hoër onderwys vir volwassenes. Teen hierdie agtergrond het die UNESCO Instituut vir Lewenslange Leer (UIL) tesame met die Internasionale Raad vir Oop en Afstandsonderrig (ICDE) en Studyportals (SP) in ’n tydperk tussen 2013 en 2015 ondersoek ingestel na die potensiaal van die afstandsonderrigprogramme wat in Europese lande soos Griekeland en Duitsland deur hoëronderwysinstellings aangebied word (Carlsen, Holmberg, Neghina en Owusu-Boampong 2016:88–9).

Soos by alle afstandstudente internasionaal, ervaar afstandsleerstudente in Griekeland ook verskeie uitdagings tydens die voltooiing van ’n kwalifikasie, maar weens besige programme word tyd as een van die grootste uitdagings van afstandsleer beskou (Kassandrinou, Angelaki en Mavroidis 2014:26–45; Spamer 2017:15–6). Afstandsleerstudente is gewoonlik werkende persone met familieverpligtinge en word tuis oorweldig deur verantwoordelikhede wat hulle moet nakom. Afstandsleer bied aan dié studente die geleentheid om ’n kwalifikasie te verwerf terwyl hulle ’n voltydse beroep beoefen. Afstandsleerstudente by meeste universiteite kan hulle studies in die tyd tot hulle beskikking en vanaf enige geografiese ligging voltooi. Sommige afstandsonderwysinstellings reël bloksessies elke tweede maand waar lesings aangebied word om studente beter te ondersteun. Hierdie klasse is egter nie verpligtend nie en baie afstandstudente kan om verskeie redes nie die klasse bywoon nie. In hierdie verband het studente aangedui dat klasbywoning (elke tweede maand) nie verpligtend is nie, maar dat die niebywoning van sulke geleenthede bydra tot min of geen tyd en geleentheid vir onderlinge ondersteuning en om medestudente beter te leer ken nie.

Volgens Hummel (2014:3) kan afstandsleerstudente moedeloos raak weens ’n tekort aan ondersteuningsdienste, wat onder meer ’n gebrek aan administratiewe ondersteuning behels. Geografiese afstande word ook as ’n uitdaging beskou wat oorbrug kan word met goeie tegnologiese administratiewe ondersteuning deur universiteite. Tydens navorsing in Griekeland het studente aangevoer dat ’n elektroniese leerbestuurstelsel (LBS) aangewend kan word om administratiewe ondersteuning te verbeter en afstandsuitdagings te oorkom (Carlsen e.a. 2016:87–9).

Ontoereikende akademiese en administratiewe dienslewering, asook programme en studiemateriaal wat nie spesifiek vir afstandsleer aangepas is nie, is egter ook deur afstandsleerstudente in Duitsland as uitdagings uitgelig (Owusu-Boampong en Holmberg 2015:204).

Die Indonesiese regering het in 1984 die Universitas Terbuka (UT) tot stand gebring as deel van ’n nasionale strategie om deelname aan hoër onderwys te verhoog. UT is die enigste universiteit in Indonesië wat slegs afstandsleer bied en het sedert sy stigting reeds 1,5 miljoen studente ingeskryf. Ten einde administratiewe ondersteuning by UT in Indonesië te verhoog, is daar ’n hoofkantoor in Jakarta en 37 distrikskantore wat in byna elke provinsie regoor Indonesië versprei is en ongeveer 650 000 studente diens (Universitas Terbuka 2019). Die hoofkantoor funksioneer as die sentrale bestuurskantoor en dien as die beplannings- en koördineringsliggaam. Die 37 distrikskantore lewer en bestuur dienste direk aan afstandsleerstudente wat vanuit hulle eie wonings regoor Indonesië studeer. Die bestuur van registrasies, leerondersteuning, eksamens en gradeplegtighede vind plaas vanuit dié distrikskantore (Zuhairi, Julaeha en Sinar 2013:1202; Universitas Terbuka 2019). Die leerproses in afstandsleer by UT word só ontwerp dat selfgerigte leer by afstandsleerstudente aangemoedig word. Tydens selfgerigte leer word studente aangemoedig om gemotiveerd te wees om selfstandig te studeer en hul eie leerstrategie en hulpbronne te kies om hul gewenste doelwitte te bereik (Bosch, Mentz en Goede 2019:1–2; Zuhairi, Karthikeyan en Priyadarshana 2019:3–7). Universitas Terbuka voorsien ook studente van alle leermateriaal, wat aanlyn tutoriale briewe insluit, ten einde selfgerigte leer te bevorder. Studente het verder ook vrylik toegang tot ekstra leermiddele, wat e-tydskrifte, boeke, proefskrifte, navorsingsverslae en nog meer insluit, en alles is beskikbaar op die UT Digitale biblioteek (Zuhairi e.a. 2019:4; Universitas Terbuka 2019). Verder moet studente na afloop van elke semester skriftelike asook aanlyn eksamens aflê (Zuhairi e.a. 2013:1203), wat voldoende administratiewe ondersteuning vereis om te verseker dat die proses glad verloop.

Afstandsleerstudente aan UT het groot belangstelling getoon in die gebruik van aanlyn dienste indien administratiewe ondersteuning voldoende is (Zuhairi e.a. 2019:7). Aangesien afstandsleerstudente se leerervaring verbeter kan word deur aanlyn ondersteuning en dienste, poog UT om hulle aanlyndienste te verbeter, byvoorbeeld deur studente die geleentheid te bied om registrasies aanlyn te voltooi (Universitas Terbuka 2019).

Zuhairi e.a. (2019:2–3) is van mening dat die afstandsleersisteem alle belanghebbendes se behoeftes asook studente se leeromstandighede in ag moet neem. ’n Effektiewe afstandsleerondersteuningsisteem moet só ontwikkel word dat studente se leer gefasiliteer word en hulle ondersteun word om onafhanklike leervaardighede te ontwikkel. ’n Verskeidenheid van ondersteuningsisteme moet beskikbaar wees om afstandsleerstudente te ondersteun, maar dit bly egter studente se keuse of hulle van die fasiliteite gebruik wil maak al dan nie (Zuhairi e.a. 2019:1–23). Afstandsleerstudente in Indonesië het uiteenlopende agtergronde en verskeie behoeftes wat ondersteuning kan beïnvloed. Afstandsleerstudente in Indonesië ervaar voorts soortgelyke administratiewe uitdagings as diegene in Duitsland en Griekeland (Zuhairi e.a. 2019:1–23).

Afstandsleer bied aan selfgemotiveerde, onafhanklike studente die geleentheid om, deur die gebruik van tegnologie, verskeie geografiese, ekonomiese en maatskaplike uitdagings, wat studente soms verhinder om ’n naskoolse kwalifikasie suksesvol te voltooi, te oorkom (Glazier 2016:437). Weens verskeie uitdagings in Suid-Afrika neem die aanvraag na toegang tot afstandsleeruniversiteite plaaslik toe.

 

4. Afstandsleer in Suid-Afrika

Administratiewe ondersteuning aan afstandsleerstudente, aan sowel nasionale en internasionale universiteite, is van belang en dra by tot die sukses van dié studente tydens die voltooiing van kwalifikasies deur afstandsleer as metode van aflewering (Simonson en Seepersaud 2019:2). Afstandsleer bied aan studente die geleentheid om op enige gegewe tyd aanlyn aansoek te doen, waarna hulle ’n telefoniese of e-posboodskap ontvang wat aandui waar in die proses hulle aansoek in daardie stadium is. Dié terugvoer word deurlopend bygewerk totdat die student suksesvol geregistreer is (Unisa 2020).

Afstandsleer aan Suid-Afrikaanse universiteite word belig om nader aan die fokus van dié ondersoek te beweeg. Navorsing wat internasionaal uitgevoer is, dui aan dat afstandsleer aan studente toegang gee tot naskoolse studies waar dit andersins nie moontlik sou wees nie (Simonson en Seepersaud 2019:1). Alhoewel uitdagings en voordele betreffende afstandsleer in hoër onderwys van land tot land verskil, het Zormanová (2016:101) bevind dat daar wel ooreenstemmende faktore is.

Volgens die DHOO (2013:49–50) moet universiteite en instansies wat naskoolse studies aanbied afstandsleerprogramme ontwikkel om by verskillende teikengroepe te pas, verskillende doelwitte te bereik en toeganklikheid tot onderrig aan ’n groot studentetal te voorsien. Afstandsleer maak onder meer voorsiening vir programme met ’n lae inskrywingstal en gee ook aan studente met uitstaande modules die geleentheid om daardie modules te voltooi ten einde hulle kwalifikasies te verwerf.

Volgens die DHOO moet instellings wat afstandsleer aanbied studente administratief ondersteun en beter maniere vind om aan studente erkenning te gee vir vorige leer (DHOO 2014:36–47). Ten einde afstandsleerstudente te ondersteun is die DHOO (2013:49–50) verbind tot die ontwikkeling van veeldoelige gemeenskapsentrums (leerondersteuningsentrums). Sedert 2008 is 35 gemeenskapsentrums deur die DHOO in Suid-Afrika gestig waarheen studente kan gaan vir ondersteuning tydens die verwerwing van ’n kwalifikasie deur middel van afstandsleer (Zwelibanzi 2012:53). Bestaande skole, kolleges en universiteitskampusse wat reeds deur die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) en die NWU gestig is, is as ondersteuningsentrums geïdentifiseer en vorm deel van die tienjaarinnovasieplan vir afstandsleer in Suid-Afrika (DHOO 2013:50). Die toeganklikheid tot naskoolse studies in Suid-Afrika word vergemaklik deur die instelling van sulke ondersteuningsentrums.

In Suid-Afrika is afstandsleer ook om al die bogenoemde redes in aanvraag, en al hoe meer afstandsleerprogramme word by universiteite aangebied. Toenemende toegang tot hoër onderwys kan suksesvol wees slegs indien instansies en universiteite wat afstandsleerprogramme ontwikkel en aanbied die betrokke studente se uiteenlopende agtergronde en ervarings verstaan en ondersteuningsmeganismes ontwikkel wat in al dié studente se behoeftes voorsien (Simonson en Seepersaud 2019:21–3). Ten einde afstandsleerstudente effektief te ondersteun, is dit belangrik om te bepaal hoedat hulle afstandsleer ervaar.

Die DHOO (2014:36–47) voer aan dat instellings wat afstandsleer aanbied studente moet ondersteun en verbeterde maniere moet vind om erkenning vir vorige leer aan studente te gee. Dit is makliker vir instansies om ’n ondersteuningstelsel daar te stel indien die instansies weet wie hulle studente is, bewus is van hulle studente se agtergronde en ook hulle behoeftes ten opsigte van ondersteuning begryp. Ondersteuning aan afstandsleerstudente moet dus leerdergesentreerd wees en selfgereguleerde leer bevorder (Simonson en Seepersaud 2019:21–3).

Navorsing deur die Raad op Hoër Onderwys (RHO 2014) toon dat studente in Suid-Afrika nie ’n poging sal aanwend om die verwagte assesseringsaktiwiteite te voltooi indien hulle ervaring onsekerheid inhou, hulle nie weet wat van hulle verwag word nie en hulle nie oor voldoende agtergrondkennis beskik nie. Verder dui die RHO (2014) aan dat studente voldoende ondersteuning vanaf universiteite moet kry en dat studente geen onsekerhede moet ervaar oor wat van hulle verwag word nie; ’n studentegesentreerde benadering moet dus gevolg word met afstandsleer.

’n Studentgesentreerde benadering is nasionaal en internasionaal ’n paradigmaskuif weg van die dosentgesentreerde leer in afstandsleer, en dit beteken dat studente in beheer van hulle eie leer is en dat daar gefokus word op studente se ervarings, uitdagings, perspektiewe, agtergrond, belangstellings, vermoëns en behoeftes. ’n Studentgesentreerde benadering vereis ook dat elke student verantwoordelikheid vir sy of haar eie leer moet neem (Simonson en Seepersaud 2019: 21–3).

In die Suid-Afrikaanse konteks is algemene faktore geïdentifiseer wat studente as uitdagings kan ervaar (Swart en Pettipher 2016:19). Hierdie uitdagings behels onder meer:

  • sosio-ekonomiese faktore (soos armoede of geweld)
  • uitdagings wat ontstaan weens inkortings (soos fisieke, kognitiewe, sensoriese, ontwikkelings- en leergeremdhede) wat spesifieke ondersteuning vereis
  • negatiewe houdings
  • stereotipering en verskille
  • onbuigsaamheid van die kurrikulum
  • onderrigtaal
  • leer en kommunikasie
  • onvoldoende en ongeskikte ondersteuningsdienste en afwesigheid van of ’n gebrek aan betrokkenheid in die leeromgewing
  • ondersteuning en onderrig (Swart en Pettipher 2016:19).

Administratiewe ondersteuning is van kardinale belang om genoemde uitdagings aan te pak en te oorkom, en behels goeie ondersteunende dienslewering om leiding te bied aan afstandsleerstudente. Dit sluit alle prosesse tydens die studiesiklus van die student in, vanaf registrasie tot die ontvangs van die kwalifikasie.

In Suid-Afrika neem die aanvraag vir afstandsleer toe en al meer afstandsleerprogramme word by universiteite aangebied. Toenemende toegang tot hoër onderwys kan suksesvol wees slegs indien instellings en universiteite wat afstandsleerprogramme ontwikkel en aanbied die betrokke studente se uiteenlopende agtergronde en ervarings verstaan en in ag neem (Simonson e.a. 2015:26). Ten einde afstandsleerstudente administratief effektief te ondersteun, is dit belangrik om te bepaal hoe dié studente afstandsleer ervaar. Instansies wat afstandsleer aanbied kan die strukture aanpas en die duur van programme verleng om toeganklikheid tot hoër onderwysinstellings en deurvloeisyfers te verbeter. Wanneer afstandsleerinstellings ’n beter begrip het van die studente se ervarings sal hulle beter daartoe in staat wees om ondersteuningstelsels te ontwikkel wat in dié studente se behoeftes kan voorsien (Simonson e.a. 2015:26).

In 1962 is daar ’n besluit geneem dat die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) ’n universiteit vir afstandsonderrig sou word, en saam met die ontstaan van The Open University in die Verenigde Koninkryk in 1971, is ’n fundamentele verandering teweeggebring in die manier waarop afstandsonderrig in groot dele van die wêreld uitgevoer is (Simonson en Seepersaud 2019:12). In 2011 het Unisa ’n implementeringsplan daargestel om studente te ondersteun. Volgens Subotzky en Prinsloo (2011:177–93) behels dié implementeringsplan die konseptualisering van studente-ondersteuningstelsels, heroorweging van formatiewe assessering en die herdefiniëring van die minimum toelatingsvereistes vir Unisa-studente waar hulle sosio-ekonomiese en opvoedkundige omgewing in ag geneem word. Die Unisa 2030-plan is die jongste strategiese plan en word jaarliks hersien om die kwaliteit van afstandsleer by Unisa te verseker (Unisa 2018:18).

Unisa bied ’n verskeidenheid ondersteuningsfasiliteite, tegnieke en dienste vir hulle geregistreerde uiteenlopende studentekorps aan om die suksesvolle voltooiing van studies te bevorder en ondersteun. Inligting rakende aansoeke, registrasie of studieverwante inligting kan deur studente op die MyUnisa-platform of die Unisa-webtuiste gevind word. Administratiewe inligting wat spesifiek op die student fokus – soos hulle persoonlike studenterekening, eksamenrooster en tutoriale briewe – is ook op die MyUnisa-platform beskikbaar. Studente verkry toegang tot die MyUnisa-webtuiste deur met hulle studentenommers in te teken (Unisa 2020).

Verder word daar ook gebruik gemaak van sosiale media soos Facebook, Twitter, LinkedIn en YouTube om inligting aan studente te kommunikeer (Unisa 2018:73). Dié universiteit bied ook aan studente persoonlike ondersteuning en berading by verskeie streeksleerondersteuningsentrums (Unisa 2020). Dáár kan studente raad inwin betreffende hulle studies, ander studente ontmoet, asook van rekenaars en beskikbare Unisa-dienste gebruik maak. Elke leerondersteuningsentrum beskik oor internetgeriewe en ’n klein biblioteek wat akademiese literatuurdienste beskikbaar stel (De Hart e.a. 2015:18–45; Unisa 2020).

Unisa se mandaat om toegang tot hoër onderwys te bevorder vereis dat hulle studente se sosio-ekonomiese omstandighede in ag moet neem. Dit dra by tot verskeie uitdagings tydens afstandsleer. Net soos by Unisa word afstandsleerprogramme ook deur die Noordwes-Universiteit regoor Suid-Afrika afgelewer.

 

5. Afstandsleer aan die Noordwes-Universiteit

Die Eenheid vir Oop Afstandsleer (EOAL) is ’n administratiewe afdeling van die NWU wat die aflewering van afstandsprogramme vir verskeie fakulteite ondersteun. Die NWU is reeds sedert 2001 by afstandsleer betrokke. Die EOAL is in 2012 gestig om die administratiewe komponente van afstandsleer by die NWU te behartig. Daar word hoofsaaklik van interaktiewe witborde as afleweringsmodus gebruik gemaak. Tot op hede is die grootste getal afstandsleerstudente aan die NWU van die Fakulteit Opvoedkunde.

Baccalaureus Educationis (BEd) Grondslagfase is vir die eerste keer in 2016 ook deur middel van afstandsleer deur die NWU aangebied. Die NWU moet verseker dat die leerervaring van en ondersteuning aan afstandsleerstudente sal bydra tot die suksesvolle voltooiing van dié kwalifikasie en dat die leerervaring so ver as moontlik dieselfde is as dié van kontakstudente. Ten einde waardevolle ondersteuning aan die BEd-afstandsleerstudente aan die NWU te bied, was dit noodsaaklik om ondersoek in te stel na die ervarings van dié studente tydens hulle studies. Die doel van die ondersoek was om leemtes met betrekking tot afstandsonderrig vas te stel en met voorstelle vorendag te kom om dié leemtes te verbeter. Gehalte afstandsonderrig kan hierdeur verseker word en sodoende bydra tot die verbetering van die leerervarings van studente en verhoogde inhoudsretensie.

Die Fakulteit Opvoedkunde van die NWU maak gebruik van ’n kombinasie van beginsels om die suksesvolle voltooiing van studies deur middel van afstandsleer te verseker. Hierdie beginsels sluit in:

  • leerdergesentreerdheid
  • lewenslange leer
  • voorsiening van buigsaamheid
  • verwydering van uitdagings tot leer
  • toeganklikheid tot leer
  • erkenning van vorige leer
  • e-leer
  • die ontwikkeling van programme wat suksesvol deur studente voltooi kan word en die instandhouding van streng gehalteversekering (RHO 2014:65; NWU 2020b:8).

Die leerondersteuningsentrums wat deur die NWU vir afstandsleer gebruik word moet geskik wees, goed geleë wees asook veilig wees vir alle afstandsleerstudente. Elke leerondersteuningsentrum moet oor witborde, internettoegang, rekenaars en ’n klein, toeganklike biblioteek beskik. EOAL-bestuur of -personeel besoek gereeld dié sentrums en evalueer hulle volgens gestelde kriteria, en sluit of skuif sentrums indien die sentrums nie aan die nodige vereistes voldoen nie.

Studente aan die NWU ontvang ondersteuning deur middel van ’n inbelsentrum wat gekontak kan word indien administratiewe uitdagings met betrekking tot studiemateriaal, registrasie, leerondersteuningsentrums of eFundi (NWU se leerbestuurstelsel) ervaar word. Inligting rakende die verskillende kwalifikasies kan ook deur die inbelsentrum aan voornemende studente verskaf word. Die elektroniese platform eFundi word gebruik om sowel administratiewe as akademiese inligting en ondersteuningsdokumente te kommunikeer en op te laai (NWU 2020a:39–50).

Die Fakulteit Opvoedkunde van die NWU beskryf die BEd Grondslagfase-graad as ’n graad wat onderwysers voorberei om graad R tot 3 te kan onderrig (NWU 2020b:35). Die Grondslagfase fokus op onderrig en leer deur middel van spel, die ontwikkeling van fisieke koördinasie asook die ontwikkeling van taal en fundamentele idees wat ’n grondslag vir wiskunde- en taalontwikkeling vorm.

Vraelyste wat vroeër deur studente ingevul is toon dat hulle die ondersteuning van die EOAL-inbelsentrum nie altyd as voldoende ervaar nie. Na deelnemers se mening was persone betrokke by die inbelsentrum nie altyd seker waarheen om oproepe te verwys nie en studente is dan van een persoon na ’n ander verwys, wat gevolglik tot frustrasie onder dié studentedeelnemers gelei het. Navrae is nie altyd beantwoord nie en volgens die deelnemers het personeel met terugvoer gesloer.

Aan die einde van 2015 is ’n hulpdiens vir addisionele ondersteuning aan afstandsleerstudente by die NWU-EOAL ingestel. Met dié aanvullende ondersteuning kan studente op die EOAL-webtuiste ’n elektroniese klagtevorm voltooi wat direk na die hulpdiens se e-posadres gestuur word. Op dié wyse kan probleme wat studente beleef geïdentifiseer word en studente-ondersteuning kan verbeter word. Tydens die hantering van die studenteversoeke is daar besef dat afstandsleer ’n unieke uitdaging vir studente inhou wat met eiesoortige ondersteuning gepaard gaan. Dit was duidelik dat elke afstandsleerstudent ’n unieke ervaring van sy/haar afstandsleerbetrokkenheid ervaar. Dit het gevolglik belangrik gelyk om ondersoek in te stel na BEd Grondslagfase-studente se ervaring van afstandsleer. Dit is beslis belangrik om studentervaring vanuit dié studente se oogpunt te sien en so te bepaal hoe afstandsleerstudente na die aflewering van afstandsleerprogramme kyk ten einde die suksesvolle aflewering van kwalifikasies te bevorder en te verseker dat studente ’n positiewe leerervaring het.

Zuhairi e.a. (2019:1–2) is van mening dat afstandsleerstudente steeds spesiale en addisionele administratiewe ondersteuning en dienste benodig weens hulle unieke behoeftes en kenmerke. Volgens Hummel (2014:3) kan afstandsleerstudente moedeloos raak weens ’n tekort aan administratiewe ondersteuningsdienste. ’n Gebrek aan administratiewe ondersteuning en hoë kostes vir naskoolse studies (die betaling van fooie, vervoer en verblyf tydens eksamenaflegging) kan veroorsaak dat studente hul studies nie voltooi nie (Zuhairi e.a. 2019:1–2). Roddy e.a. (2017:2) bevestig dié verskynsel en benadruk die ondersteuning van afstandsleerstudente as ’n groot uitdaging aangesien die afstandsleerstudent geïsoleerd en verwyderd is van die kontak en ondersteuning wat kontakstudente daagliks ervaar, soos ook by NWU gebeur.

Die NWU het verskeie pogings aangewend om studente te ondersteun en te verseker dat hulle leerervaring positief is. Hoewel inligtingsessies en ’n verskeidenheid ondersteuningsmiddele, soos die inbelsentrum, lesingopnames, elektroniese leerbestuurstelsel (LBS) (eFundi) en die hulpdiens en kontak met dosente, daargestel is, bly dit altyd noodsaaklik om te bepaal in watter mate hierdie ondersteuning voldoende en suksesvol is. Die navorsing vir hierdie artikel het dus ten doel gehad om ondersoek in te stel na BEd Grondslagfase-afstandsleerstudente se ervaring van administratiewe ondersteuning aan die NWU ten einde ’n positiewe bydrae te lewer tot die effektiewe implementering en ontwikkeling van ondersteuningstelsels in die aanbieding van huidige en toekomstige afstandsleerprogramme.

 

6. Navorsingsontwerp

Die navorsingsontwerp van ’n studie sluit die metodologie en navorsingsmetode in. Die navorsingsontwerp kan as struktuur vir die studie gebruik word en sluit teorieë, metodes en instrumente van die studie. Binne die navorsingsontwerp word die navorsingsvrae bepaal en bied dit ’n uiteensetting van die soort studie wat onderneem word (Joubert, Hartell en Lombard 2016:33). Hierdie fenomenologiese studie het ten doel gehad om die deelnemers se ervaring van afstandsleer van die BEd Grondslagfase-program met betrekking tot administratiewe ondersteuning te bepaal.

’n Metodologiese paradigma kan beskryf word as ’n raamwerk wat gebruik word om dit wat waargeneem is beter te verstaan en word gesien as perspektiewe of die wyse waarop daar na gebeure gekyk kan word (Joubert e.a. 2016:38). ’n Kwalitatiewe navorsingsontwerp met ’n epistemologiese en ontologiese onderbou binne ’n interpretivistiese paradigma is as vertrekpunt gebruik. Die epistemologiese vertrekpunt, wat bepaal dat waarheid geïnterpreteer word en dus nooit noodwendig staties is nie, dwing die studie tot ’n kwalitatiewe navorsingsontwerp.

Die epistemologiese onderbou van hierdie studie het gelei tot die interpretivistiese paradigma, omdat die situasie geanaliseer is om insig te verkry ten opsigte van die manier waarop die deelnemers sin maak van die verskynsels. Dit beteken dat elke deelnemer se waarheid getoets en bevestig moes word (Joubert e.a. 2016:9; Nieuwenhuis 2019:66–8). Vanuit die epistemologiese benadering kan vrae beantwoord word soos waaraan die werklikheid geken word en hoe die werklikheid geïnterpreteer word. Navorsingsdeelnemers beskik egter elk oor hulle eie siening van die waarheid, belewenisse en werklikheid soos hulle die wêreld interpreteer en self beleef. Die deelnemers se interpretasie word dus beïnvloed deur hulle eie belewenis van die waarheid. Aangesien die navorsing deur die lense van verskillende deelnemers beskou word (elk met verskillende ervarings en menings), word daar na ontologie verwys – ’n interpretivistiese benadering word gevolg om ondersoek in te stel na wat die waarheid is (Joubert e.a. 2016:9; Nieuwenhuis 2019:66–8). Ons het BEd Grondslagfase-afstandsleerstudente se ervaring van administratiewe ondersteuning aan die NWU ondersoek.

Na aanleiding van die bogenoemde het die volgende navorsingsvraag ontstaan:

  • Wat is studente se ervaring van afstandsleer in die BEd Grondslagfase-graad ten opsigte van administratiewe ondersteuning aan die Noordwes-Universiteit (NWU)?

Die deelnemers se response is gebaseer op die interpretasie van gebeure, kontekste en situasies. Daar bestaan dus veelvuldige interpretasies van eenvoudige gebeurtenisse. Die realiteit is in wese kompleks, daarom is die navorsing ook deur die lens van die deelnemers eerder as slegs deur die lens van ons as navorsers belig.

6.1 Etiese oorwegings

Alvorens data ingesamel is, is skriftelike toestemming eers verkry van die dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, die uitvoerende direkteur van die EOAL, die navorsingsetiekkomitee van die Fakulteit Opvoedkunde asook die Noordwes-Universiteit se institusionele navorsingsetiekkomitee en is die nodige etiese voorwaardes nagekom. Bepaalde riglyne met betrekking tot etiese faktore tydens die beplanning, implementering en verslaggewing van dié navorsing is gevolg om deelnemers se privaatheid te beskerm.

Daar is gepoog om vertroulikheid, die reg op privaatheid, vrywillige deelname en beskerming van die deelnemers te verseker. Geen deelnemer se persoonlike inligting is tydens die ondersoek gebruik of bekend gemaak nie, aangesien die uitnodiging om deel te neem aan die studie op die e-platform geplaas is en die student die keuse gehad het om op die skakel te klik en die oop-einde-vraelys wat op Google Forms ontwikkel is, te voltooi. Vrywillige deelname was sodoende verseker en die doel van die vraelys is eers verduidelik nadat die student op die skakel geklik het. Hier is dan ook aan die student verduidelik dat hul persoonlike inligting nie bekend is of gemaak sal word nie, aangesien geen persoonlike inligting van die student gevra is nie. Verder is daar ook verduidelik dat die student hom-/haarself enige tyd van die studie mag onttrek indien hy/sy nie gemaklik voel daarmee om die vrae te beantwoord nie. Slegs deelnemers wat ingeligte toestemming gegee het deur op die toestemmingsblokkie te klik kon aan die studie deelneem. Die vraelys kon nie deur die deelnemers voltooi word indien ingeligte toestemming nie gegee is nie.

Die privaatheid en opinie van die deelnemers is deurgaans gerespekteer en vryheid van keuse tot deelname is gehandhaaf. Dus is die deelnemers se reg op privaatheid erken en beskerm en vertroulikheid van die ondersoek is gehandhaaf (Kalu en Bwalya 2017:48–51).

6.2 Populasie

Die populasie en deelnemers aan hierdie ondersoek was BEd Grondslagfase-afstandsleerstudente (spesifiek tweedejaarstudente) wat in 2016 as eerstejaarstudente vir dié afstandsleerprogram geregistreer was.

Van die totale populasie (n=482) het 46 aan die studie deelgeneem. Die uitnodiging tot deelname aan hierdie studie is op die elektroniese LBS, eFundi, gelaai, en aan BEd Grondslagfase-tweedejaarafstandsleerstudente gerig. ’n Elektroniese oop-einde-vraelys is as data-insamelingsinstrument gebruik wat op eFundi via Google Forms beskikbaar gestel is. Die vraelys is vergesel van ’n inligtingsbrief wat die doel van die navorsing asook die vrywillige deelname en reg op privaatheid aan studente verduidelik het. Die studentedeelnemers het hulle eie ervarings weergegee. Hulle deelname het afgehang van hulle toegang tot die internet, aangesien die uitnodiging elektronies geplaas is; om die vraelys te kon voltooi.

Hierdie studente, wat reeds een jaar via afstandsleer aan die NWU studeer het, kon waardevolle inligting rakende die administratiewe prosesse verskaf. Die vrae in die oop-einde-vraelyste het verband gehou met administratiewe prosesse waarmee die deelnemers reeds bekend was en sluit onder meer in:

  • aansoeke
  • registrasie
  • ontvang van studiemateriaal
  • administratiewe ondersteuning
  • bywoning van interaktiewewitbordsessies
  • inhandiging van opdragte
  • eksamenaflegging
  • terugvoer op punte behaal vir opdragte en eksamens.

Die deelnemers kon enigiets rapporteer wat met hul ervaring van afstandsleer in die BEd Grondslagfase-graad verband gehou het en die uitkomste van dié studie moontlik kon beïnvloed. Die rou data is gekontroleer deur ’n onafhanklike ontleder wat ten tyde van die studie by afstandsleer betrokke was ten einde betroubaarheid te verseker. Die navorsingskonteks is breedvoerig beskryf en reflektiewe notas is oor die navorsingsproses gemaak.

 

7. Data-ontleding

Kwalitatiewe data wat deur elektroniese oop-einde-vraelyste ingesamel is, is deur middel van inhoudsontleding ontleed (Joubert e.a. 2016:117). Die inhoud van die voltooide oop-einde-vraelyste is eers verbatim getranskribeer, waarna datakodering en tematiese ontleding gedoen is.

Die voltooide oop-einde-vraelyste is elektronies vanaf Google Drive afgelaai, waarna ons die response van die deelnemers getranskribeer het. Ons het die transkripsies gelees en bestudeer om ’n algehele indruk van die inhoud en konteks te verkry, waarna dit met behulp van Atlas.ti™ ontleed is. Koderingswoorde is met behulp van Atlas.ti™ geformuleer om ooreenstemmende eenhede of segmente in die transkripsie te identifiseer. Kodering het in drie kronologiese vlakke geskied:

  • Oop kodering: Dit is die identifisering en benaming van segmente binne die transkripsie. Die klem is gelê op woorde, frases en verhoudings binne die transkripsie waarvolgens die segmente uitgelig en geëtiketteer is (Joubert a. 2016:124, 222).
  • Aksiale (tematiese) kodering: Die geëtiketteerde woorde wat in die voorgaande fase geïdentifiseer is, is hersien en ondersoek. Kategorieë en patrone is tydens hierdie stap geïdentifiseer en volgens tema georden (Saldaña 2016:152; Joubert a. 2016:222).
  • Selektiewe kodering: Al die kernkategorieë of -kodes wat geïdentifiseer is, is selektief besigtig. Ooreenkomste en verskille wat met die navorsingsvraag verband gehou het, is geïdentifiseer en vergelyk (Joubert a. 2016:223).

Na afloop van die ontleding is ’n konsensusgesprek met die onafhanklike ontleder gevoer en op grond daarvan is die finale kategorieë geïdentifiseer, waarna induktiewe bevindinge verkry is (Saldaña 2016:3–8). Die kwalitatiewe ontledingsproses is voltooi deur die identifisering van ooreenkomstige temas, verhoudinge en patrone.

Die stappe wat tydens die data-ontledingsproses gevolg is, word vervolgens in tabel 1 saamgevat:

Tabel 1. Stappe tydens die data-ontledingsproses

Stap

Beskrywing van die stap

Aksies

Stap 1:
Data-insameling

Google Forms is gebruik om data in te samel deur middel van ’n elektroniese vraelys met oop vrae wat deur ons opgestel is.

Op 14 Junie 2017 is daar ’n uitnodiging aan die 482 tweedejaar-afstandsleerstudente (geregistreer vir BEd Grondslagfase) op die eFundi-LBS geplaas. Deelnemers kon vrywillig die vraelys voltooi. Die uitnodiging is by vyf geleenthede geplaas om te verseker dat soveel moontlik studente die geleentheid kon kry om aan die navorsing deel te neem. Die vraelys was vir ses weke aktief vir studente om te voltooi. Dus is die vraelys op 23 Augustus 2017 vir deelname gesluit.

Stap 2:
Transkribeer

Ontleding van die 46 deelnemers se oop-einde-vraelyste wat via Google Forms voltooi is.

Ons het die voltooide vraelyste verwerk. Die identiteit van die deelnemers is beskerm deurdat die vraelys anoniem voltooi is.

Stap 3:
Oorsig

Ons het ’n oorsig van al die antwoorde verkry.

Die transkripsie is gelees en bestudeer om ’n algehele indruk van die inhoud en konteks te verkry.

Stap 4:
Kodeer

Bestudering van die data en identifisering van ooreenstemmende datasegmente in die getranskribeerde vraelyste.

Ooreenstemmende datasegmente is geïdentifiseer.

 

Oop kodering, aksiale kodering en selektiewe kodering is gebruik.

Data is volgens drie vlakke met behulp van Atlas.ti™ gekodeer.

Stap 5:
Kategoriseer

Kategorieë is geskep.

Datasegmente is gekategoriseer op grond van ooreenkomste en verskille.

Stap 6:
Groepeer

Subtemas is geskep.

Die kategorieë is in vier subtemas verdeel.

Stap 7:
Tematiseer

Temas het uiteindelik uit die data gekristalliseer.

Twee temas wat die navorsingsvraag beantwoord het uit die vier subtemas gekristalliseer.

Stap 8:
Kristalliseer

Temas (bevindinge) is bespreek.

Temas is bespreek en geïnterpreteer aan die hand van tersaaklike literatuur, transkripsies en ons eie insig(te).

 

8. Bevindinge

Vanuit die ingesamelde data is administratiewe voordele as subtema aangedui en is dit in hierdie artikel as die fokus geïdentifiseer. Dienslewering is as kategorie aangedui en studiemateriaal, registrasie en positiewe terugvoer as kodes. Studente het die inbelsentrum, leerondersteuningsentrums, eFundi en interaktiewewitbordsessies as voordele bestempel. Al hierdie faktore het tot ’n positiewe, ondersteunende studente-ervaring bygedra.

Ons het gepoog om die geloofwaardigheid van die data te behou deur die deelnemers se verbatim terugvoer te gebruik. Dit sou ook die ware beeld van die verskynsel waaroor die ondersoek gedoen is, verskaf (Kalu en Bwalya 2017:48–51). Om hierdie geloofwaardigheid te verseker was dit noodsaaklik om die transkripsie weer te gee presies soos wat die deelnemer dit getik het. Indien daar aan die transkripsie verander word deur byvoorbeeld Engelse woorde wat gebruik is te vertaal, kan die vertaling ’n verskil in nuanse en ander betekenisverskille veroorsaak.

Uit die deelnemers se response het dit geblyk dat studente dienslewering met goeie ondersteuning en spoedige terugvoer as positief ervaar het. Volgens die deelnemers het die registrasieproses goed verloop en was dit beter vergeleke met die vorige jaar. Die verbetering van die registrasieproses is uitgelig as ’n voordeel wat verband hou met dienslewering in afstandsleer, aangesien die registrasieproses bepaal hoe lank dit neem om die studiemateriaal aan die student te besorg.

Registration this year was much better than last year [Registrasie hierdie jaar was baie beter as verlede jaar];

Ek ondervind die ondersteuning vanaf die admin kantore baie effektief asook die kommunikasie vanaf Dr. X. Ek het nog elke keer vinnige terugvoer gekry vanaf albei indien ek ’n probleem ervaar het;

UODL is friendly. Finance section also very helpful [EOAL is vriendelik. Die finansiële afdeling is ook baie behulpsaam].

Die deelnemers het die spoedige aflewering van studiemateriaal as positief ervaar, aangesien die registrasieproses beter verloop het as in hul eerste jaar. Studiemateriaal wat hulle spoedig bereik het, het bygedra tot hulle studiesukses, aangesien hulle dadelik na afloop van registrasie kon begin studeer en aan opdragte werk:

study material is always on time, assignment feed back is quick [Studiemateriaal is altyd betyds; opdragterugvoer is vinnig];

Boeke was nog altyd betyds;

Die verspreiding van studiemateriaal is van hoogstaande gehalte en inligting rakende aansoeke en registrasie word duidelik uiteengesit en is vroegtydig beskikbaar aan alle studente, wat genoeg tyd verskaf om aan die sperdatums te voldoen.

Deelnemers het verder gemeld dat terugvoer op administratiewe navrae vinnig en effektief hanteer is:

Ek kan net sê dat ek die goeie diens en ondersteuning tot dusver baie waardeer;

Overall, we get great service from the NWU [In die algemeen kry ons uitstekende diens van die NWU];

Ek hou daarvan, dis baie behulpsaam en ondersteunend;

Daar is altyd antwoord en hulp beskikbaar. Wanneer hul nie antwoord nie skakel hul jou vinnig terug om te vra of [jy] reggekom het indien nie help hulle jou;

Positive, when I have had a problem the University has always sorted it out quickly [Positief, as ek ’n probleem gehad het, het die Universiteit dit altyd vinnig uitgesorteer].

Studente het die leerondersteuningsentrums – waar gratis internettoegang en studiemateriaal beskikbaar is – as voldoende en goed geleë ervaar en het dit as ’n administratiewe voordeel met positiewe ondersteuning uitgelig. Die leerondersteuningsentrums van die NWU is met interaktiewe witborde toegerus. Studente kan kontaksessies, wat regstreeks vanaf die Potchefstroomkampus uitgesaai word, by hierdie sentrums bywoon. Elke sentrum het ook ’n koördineerder wat studente met administratiewe uitdagings kan help:

I really enjoy my center [sic], my facilitator is very helpful and my center [sic] is suitable and not very far [Ek geniet my sentrum baie, my fasiliteerder is baie behulpsaam en my sentrum is geskik en nie baie ver nie];

I am very happy with my learning support center [sic] and I am grateful for all their assistance [Ek is baie gelukkig met my sentrum vir leerondersteuning en is dankbaar vir al hulle hulp];

Die ligging van sentrums is goed en die personeel by die sentrums is baie hulpvaardig;

Die onderwysers by die leerondersteuningsentrum help altyd baie graag.

Volgens Roddy e.a. (2017:2) moet studente verstaan wat afstandsleer behels, veral dat daar ’n groot verskil is tussen afstandsleer en kontak- (aangesig-tot-aangesig-) leer, en dat kommunikasie tussen studente, dosente en ’n administratiewe komponent baie belangrik is. Die gebruik van die elektroniese platform eFundi, waarop studente inligting elektronies ontvang, is bydraend tot administratiewe ondersteuning weens die tydige en goeie kommunikasie op dié platform. Navrae oor eFundi word deur behulpsame personeel by die eFundi-hulplyn hanteer. Deelnemers het ook aangedui dat hulle as tweedejaarstudente die gebruik van eFundi baie makliker ervaar as tydens hulle eerste jaar, wat moontlik toegeskryf kan word aan hulle vorige blootstelling daaraan en die kennis van waar om hulp te kry indien nodig.

Efundi [sic] help desk is friendly [Die eFundi-hulptoonbank is baie vriendelik];

Being second year has advantages with eFundi. Through trial and error you gain knowledge. We ask a lot of questions, most of us feel uncertain. Thank goodness we have each other on whatsup [sic] [Om tweedejaar te wees het voordele met eFundi. Deur leer en probeer verkry jy kennis. Ons vra baie vrae; die meeste van ons voel onseker. Dankie tog ons het mekaar op whatsup [sic]].

Studente word deur die NWU aangemoedig om WhatsApp-groepe per module te stig sodat studente mekaar kan ondersteun.

Die terugvoer vanaf die NWU se inbelsentrum, met positiewe en behulpsame personeel, is voorts ook as ’n administratiewe voordeel uitgelig.

Deelnemers het die volgende in dié opsig gesê:

I love the call centre. They always have an answer and tend to help me very easily [Ek is mal oor die oproepsentrum. Hulle het altyd ’n antwoord en is geneig om my baie maklik te help];

Some call center [sic] employees is [sic] of great assistance [Sommige werknemers van die oproepsentrum is van groot hulp];

Daar is altyd persone beskikbaar wat probeer om jou probleem op te los en indien dit nie binne hul vermoe [sic] is nie, word die nodige kontaknommers en kontakpersoon se besonderhede aan jou verskaf om dit vir jou moontlik te maak om dan self met die betrokke persoon kontak te maak.

Die leerderondersteuningsentrums met interaktiewewitbordsessies, gratis internettoegang en beskikbare studiemateriaal is as administratiewe voordele geïdentifiseer. Die studente het die geleentheid om alle navorsingspublikasies, die internet en beskikbare studiemateriaal gratis te gebruik en hoef dus nie ekstra onkostes aan te gaan om opdragte te doen of opnames te besigtig wat weens werksverpligtinge misgeloop is nie.

Deelnemers het die interaktiewewitbordsessies met kontakgeleentheid as ’n administratiewe voordeel van afstandsleer aan die NWU uitgelig. Daar word hoofsaaklik van interaktiewe witborde as afleweringsmodus gebruik gemaak. Dosente saai interaktiewewitbordsessies regstreeks vanaf die NWU (Potchefstroomkampus) uit na 65 leerondersteuningsentrums regoor Suid-Afrika en Namibië, soos reeds genoem. Klasse word tydens interaktiewewitbordsessies opgeneem en word ter ondersteuning aan studente op Panopto beskikbaar gestel. Panopto is ’n sagtewaremaatskappy wat onder meer gebruik maak van les- en video-opnames vir ’n e-leeromgewing (Panopto 2020). Die opgeneemde klasse kan op ’n latere stadium van die internet afgelaai en besigtig word indien studente klasse misgeloop het, of bloot om die leerinhoud in te skerp. Studente kan ook hierdie platform gebruik om opdragte elektronies in te dien en opnames van interaktiewewitbordsessies te besigtig wat na afloop van sodanige regstreekse sessies op die internet gelaai word.

 

9. Bespreking en toepassing

Dit is van groot belang dat instansies gereeld ondersoek instel na die ervaring van die student, want alhoewel afstandsleer talle voordele inhou, ervaar hierdie studente ook vele uitdagings. Gratis internettoegang en beskikbare studiemateriaal by leerondersteuningsentrums is as voordele geïdentifiseer, aangesien daar afstandsleerstudente is wat in gebiede woon waar daar geen internettoegang is nie. Van die deelnemers het egter sommige van dié sentrums as onveilig ervaar en was ook van mening dat ander sentrums nie geskik was om gebruik te word nie, aangesien ’n kerk byvoorbeeld daarvoor ingespan is, en daar ook geen meubels (tafels en stoele) was nie. Terugvoer vanaf die deelnemers in dié verband het dus verskil afhangend van die sentrum waar hulle ondersteuning ontvang het. Data moes dus sentrumspesifiek ontleed word. Dit is gevolglik uitgewys dat leerondersteuningsentrums nie lukraak gekies kan word nie, maar sodanig toegerus moet wees om ’n positiewe leerervaring by studente te verseker.

Dit het uit die bevindinge geblyk dat deelnemers dit verkies het om meer interaktiewewitbordsessies by te woon, en sommige deelnemers het dié sessies as ’n voordeel ervaar, aangesien dit hulle die geleentheid gebied het om kontak met die dosent te maak. Deelnemers het die aantal interaktiewewitbordsessies soms as oorweldigend ervaar, en die sessies wat gedurende die week geskeduleer is, was vir sommiges uitdagend, omdat hulle in daardie tydgleuwe verskeie persoonlike, huishoudelike en/of werksverantwoordelikhede moes nakom. Die NWU en ander afstandsleeruniversiteite moet dus deeglik besin oor die tye wanneer ondersteuning aan studente beskikbaar gestel word, asook oor die tipe ondersteuning wat aan studente gebied word.

Alhoewel die registrasieproses voorts uitgelig is as ’n voordeel, is daar altyd ruimte vir verbetering en behoort die administratiewe stelsel uitgebrei te word sodat die registrasieproses bespoedig kan word indien die NWU die uitbreiding van afstandsleer as ’n strategiese prioriteit beskou. Studiemateriaal wat laat ontvang word, is ’n administratiewe uitdaging. Volgens deelnemers het die laat aflewering van studiemateriaal ’n finansiële implikasie, aangesien die materiaal so lank geneem het om afgelewer te word dat hulle dit aanlyn moes aflaai en selfs as harde kopie moes druk. Daar word aanbeveel dat die registrasieproses elektronies moet plaasvind. Dit sal verseker dat studente betyds registreer, wat weer die studiesiklus betyds sal laat afskop. Studiemateriaal kan dan vroeër na studente gestuur word en studente sal genoeg tyd hê om hulle studies effektief en betyds te voltooi. Sodanige opgradering van die stelsel sal ook meebring dat punte onmiddellik aan studente gekommunikeer kan word om te verseker dat studente vroegtydig weet of hul eksamentoelating het, aangesien hulle slegs eksamen kan aflê indien hulle ’n deelnamepunt van 40% verwerf het. Terugvoer op werksopdragte is ook deel van die leerproses en verseker akademiese groei. Die administratiewe stelsel moet daartoe in staat wees om effektiewe en spoedige terugvoer te verseker.

Indien die registrasieproses op tyd soos beplan verloop, sal uitdagings wat ervaar word in verband met dienslewering, soos eksamenaflegging, minder probleme vir die studente veroorsaak. Studente sal dan meer tyd gegun word om voor te berei vir eksamenafleggings wat kort tydperke uit mekaar geskeduleer is en eksamenaflegging vir studente uitdagend maak. Verdere uitdagings met dienslewering wat ervaar is, is die beperkte beskikbare tyd vandat studiemateriaal ontvang is tot en met die sperdatum vir indiening van opdragte. Die beskikbaarstelling van punte asook die regstelling daarvan, indien nodig, sloer ook soms, en deelnamepunte word by tye laat beskikbaar gestel. Gevolglik weet studente nie of hulle eksamentoelating het nie.

Ten einde werkende studente tegemoet te kom, behoort ’n daadwerklike poging aangewend te word om eksamendatums te skeduleer sodat studente meer tyd tot hulle beskikking het om voldoende vir elke module voor te berei en te studeer. Die inhandigingsdatums vir opdragte en aanlyn toetse kan beter beplan en gesinkroniseer word.

Studente aan die NWU ontvang administratiewe ondersteuning deur middel van ’n inbelsentrum wat gekontak kan word indien administratiewe uitdagings ervaar word. Die hulpdiens is ook elektronies beskikbaar en studente voltooi ’n elektroniese klagtevorm wat na ’n betrokke persoon binne die EOAL se e-posadres gestuur word om te hanteer. Die elektroniese platform eFundi word gebruik om administratiewe sowel as akademiese inligting te kommunikeer en ondersteuningsdokumente op te laai (NWU 2017; NWU 2020a:17). Vir suksesvolle studenteleerervaring is dit belangrik dat inbelsentrumpersoneel uitmuntend opgelei moet wees en diepgaande kennis van die kwalifikasies moet hê. Daar word voorgestel dat inbelsentrumpersoneel per program spesialiseer ten einde vrae omvattend te kan beantwoord óf afstandsleerstudente na die regte persone te verwys indien hulle probleme ervaar. Hierdie aanbeveling kan deurgetrek word na alle afstandsonderriguniversiteite wat ’n effektiewe inbelsentrum op die been behoort te bring ten einde diepgaande inligting en ondersteuning aan die afstandstudent te kan bied.

Die biografiese inligting in die oop-einde-vraelyste het getoon dat die meerderheid (35) van die totaal van 46 studente wat die vraelys voltooi het ’n voltydse betrekking beklee en deeltyds studeer het. Slegs 11 studente het aangedui dat hulle voltyds deur middel van afstandsleer studeer. In ooreenstemming met die literatuur (Redelinghuys 2017:46–7) is daar ook in dié studie bevind dat voltydswerkende studente deur afstandsleer die geleentheid kry om ’n kwalifikasie te verwerf óf te verbeter wat andersins onbereikbaar sou wees.

Volgens Bell en Chris (2016:190) is studente wat deur afstandsleer studeer gewoonlik ouer persone, maar in teenstelling met hierdie verwagtinge was die meeste van die deelnemers aan dié studie jonger, werkende vroue tussen die ouderdom van 19 en 29 jaar. Die BEd-graad is ’n voorgraadse onderwyskwalifikasie en dié studente berei hulle voor om tot die professie toe te tree, wat as moontlike rede aangevoer kan word vir die jonger deelnemers in die groep. In die studie is daar aangedui dat selfs skoolverlaters wat nie finansieel daartoe in staat is om aan hoëronderwysinstellings in te skryf nie, deur middel van afstandsleerprogramme toegang daartoe kry om ’n graad te verwerf terwyl hulle terselfdertyd werkend is en geld kan verdien. Die deelnemers het dit laat blyk dat hierdie studente wat voltyds werk dus verhoogde verwagtinge van administratiewe ondersteuning het.

Vanuit die data ingesamel vir die doel van hierdie studie is beide administratiewe voordele en administratiewe uitdagings uitgelig. Die bevindinge dui aan dat studentedeelnemers sekere administratiewe aspekte as voordele en ander as uitdaging of hindernisse ervaar het. Die deelnemers se ervaring van afstandsleer het dus van mekaar verskil aangesien hulle omstandighede ’n rol gespeel het, soos verbatim hier onder aangedui.

As gevolg van sekere werksomstandighede is dit nie altyd moontlik om te enige tyd aan jou studies te werk nie, maar word die tye van studie bepaal deur die beskikbaarheid van tyd volgens huislike en werkomstandighede. Spanning in hierdie omstandighede speel ook ’n rol tydens studietye.

Tegnologie is ’n medium vir kommunikasie en ’n wyse om inligting oor die wêreld heen te deel. Die buigbaarheid en toeganklikheid van afstandsleer bied aan studente die geleentheid om hulleself te onderrig, en nuwe geleenthede vir afstandsleerprogramme ontstaan te danke aan die toenemende gebruik van tegnologie. Tegnologiegebruik het ’n nuwe wyse van leer gegenereer, wat afstandsleer insluit, en kan aan soveel meer mense die geleentheid bied om ’n kwalifikasie te verwerf (Redelinghuys 2017:44; Spamer 2017:1–2).

Te danke aan die gebruik van tegnologie is afstandsleer ’n manier van studeer waar geen geografiese en tydsbeperkings ervaar word nie. Studente baat gewoonlik die meeste by die buigsaamheid en aanpasbaarheid van afstandsleer, al word die geïsoleerde manier van leer soms as uitdaging ervaar. Studente word weens die aard van afstandsleer die geleentheid gebied om te besluit waar, wanneer en teen watter tempo leer plaasvind (Zuhairi e.a. 2019:2).

Owusu-Boampong en Holmberg (2015:45) asook Redelinghuys (2017:45) dui aan dat geografiese afstande tussen studente en dosente met behulp van goeie administratiewe ondersteuning en tegnologiegebruik verkort kan word. Die administratiewe afdeling van ’n universiteit moet verseker dat studiegidse en oudiovisuele of digitale materiaal beskikbaar en maklik bekombaar is. Kommunikasie tussen studente, dosente en ’n administratiewe komponent is baie belangrik, en kommunikasiekanale moet oop, vinnig en effektief wees om alle uitdagings wat ervaar kan word uit die weg te ruim (Zuhairi e.a. 2019:2–4).

In die NWU se BEd Grondslagfase-afstandsleerprogram word daar van tegnologie gebruik gemaak deur middel van interaktiewewitborduitsendings en administratiewe sowel as akademiese ondersteuning wat op die LBS-platform eFundi bestuur word. Op hierdie wyse kan die werkende student op ʼn geleë tyd witborduitsendings wat opgeneem word aflaai en besigtig. Die LBS van enige afstandsonderriguniversiteit is die kanaal waardeur interaksie tussen dosent en student, maar ook tussen studente, plaasvind.

Ten slotte dra die administratiewe ondersteuning van studente en die dienslewering wat hulle ontvang ongetwyfeld by tot die sukses van hulle afstandsleerstudies. Hierdie bevinding word ook in die literatuur ondersteun (DHOO 2014:12–3; Zuhairi e.a. 2019:1–23).

 

10. Aanbevelings en samevatting

Die navorsing het ten doel gehad om ondersoek in te stel na BEd Grondslagfase-afstandsleerstudente se ervaring van administratiewe ondersteuning aan die NWU. Dit het uit die bevindinge geblyk dat BEd Grondslagfase-afstandsleerstudente sowel voordele as nadele ervaar met die administratiewe ondersteuning wat deur die NWU-EOAL tydens die voltooiing van hulle kwalifikasie gebied word

Afstandsleerstudente het die geleentheid om aan die NWU ’n kwalifikasie te verwerf terwyl hulle ook voltyds werk, hulle families versorg en soms in afgeleë gebiede woon. Te danke aan die administratiewe ondersteuning wat die NWU bied, kan studente tegelyk studeer, sosio-ekonomiese uitdagings oorbrug en persoonlike verpligtinge nakom. Daar is bevind dat studente steeds deur middel van afstandsleer ’n kwalifikasie kan verwerf, ongeag uitdagings om tyd in te ruim vir studies omdat hulle voltydse betrekkinge beklee en daaglikse verantwoordelikhede het. Hierdie faktore word beskou as voordele wat afstandsleerstudies inhou.

Die biografiese gegewens vanuit die studie het ons gehelp om die deelnemerprofiele beter te verstaan. Hieruit het dit geblyk dat die meeste afstandsleerstudente voltyds moet werk omdat hulle nie net hulle studies moet finansier nie, maar ook hulle gesinne finansieel moet onderhou. Bevindinge uit dié studie stem ooreen met internasionale neigings dat studente afstandsleer as voordelig ervaar, aangesien hulle in hul eie tyd hul studies kan voltooi, mits hulle die sperdatums bereik wat deur die universiteit gestel is. Die uitdaging van geografiese afstande tussen studente se wonings en universiteite asook leerondersteuningsentrums word dus só oorbrug. Kommunikasie tussen studente en die instansies deur middel van e-pos is in hierdie studie asook in navorsing wat in Griekeland uitgevoer is as vinnig, gerieflik en maklik beskou.

Ons het vanuit hierdie navorsing tot die besef gekom dat kommunikasie vanaf die NWU-EOAL se administratiewe ondersteuning- en inbelsentrum soms as voldoende en effektief beskou word, maar ook met tye as oneffektief ervaar word omdat studente van bakboord na stuurboord gestuur word indien die inbelsentrumpersoneel self onseker is. Die registrasieproses in hul tweede jaar is deur deelnemers as ’n voordeel uitgelig, aangesien die proses goed verloop het – beter as die registrasieproses aan die begin van hul eerste jaar. As die registrasieproses goed verloop, word studiemateriaal vroegtydig uitgestuur en studente het dan genoeg tyd om opdragte te voltooi voordat hulle eksamens moet aflê.

Die leerondersteuningsentrums wat deur die NWU as administratiewe ondersteuning gebruik word, is geskik en goed geleë, maar is as ’n uitdaging uitgelig omdat dié sentrums soms te ver van studente se wonings was, wat finansiële implikasies kon inhou. Ons is wel bewus daarvan dat die leerondersteuningsentrums deur EOAL-bestuurslede besoek word om te verseker dat leerondersteuningsentrums geskik en veilig is, en beveel aan dat die studente wat witbordsessies by die leerondersteuningsentrums bywoon gereeld versoek moet word om terugvoer te gee oor die veiligheids- en geskiktheidsaspekte van die sentrums.

Afstandsleerstudies is uitdagend indien die student tegelyk moet studeer en voltyds werk, maar persone kan só ’n kwalifikasie verwerf wat andersins onbereikbaar sou wees. Afstandsleerstudente aan die NWU kry die geleentheid om praktiese ervaring deur middel van werkgeïntegreerde leer op te doen terwyl hulle skole besoek of selfs reeds ’n pos by ’n skool beklee terwyl hulle hul kwalifikasies voltooi.

 

11. Gevolgtrekking

Die navorsingsdoelwit was om vas te stel wat studente se ervaring van afstandsleer in die BEd Grondslagfase-graad is ten opsigte van administratiewe ondersteuning aan die Noordwes-Universiteit (NWU), en die volgende navorsingsvraag het ontstaan:

  • Wat is studente se ervaring van afstandsleer in die BEd Grondslagfase-graad ten opsigte van administratiewe ondersteuning aan die Noordwes-Universiteit (NWU)?

Die navorsingsbevindinge het getoon dat die studentedeelnemers aan dié studie tevrede was met die administratiewe ondersteuning wat hulle van die NWU ontvang het, alhoewel hulle tog ook uitdagings ervaar het. Goeie administratiewe ondersteuning het tot ʼn positiewe leerervaring bygedra. Alhoewel die ervaringe van individuele afstandsleerstudente verskil en nie altyd tydens die beplanning, implementering, aflewering en dienslewering van afstandsleerkwalifikasies in ag geneem word nie, is dit noodsaaklik om dié studente se ervaringe te bepaal ten einde te verseker dat administratiewe ondersteuning steeds sal verbeter sodat hulle selfs ʼn beter leerervaring het. NWU het die verantwoordelikheid om gehaltedienslewering aan geregistreerde studente te verseker tydens die voltooiing van afstandsleerkwalifikasies.

11.1 Bydrae van die studie

Hierdie oorspronklike en unieke studie het die ervaring van die heel eerste afstandsleer BEd Grondslagfase-graad studente aan die NWU vasgelê. Alle universiteite behoort vanuit studente se oogpunt na die aflewering van afstandsleerprogramme te kyk om die suksesvolle aflewering van sodanige kwalifikasies te bevorder en te verseker. Daarom is dit belangrik dat administratiewe ondersteuning voortdurend intern beoordeel moet word om te verseker dat dit suksesvol is, en dat maniere gevind word om ondersteuning te verbeter en te verseker dat dit bydra tot studente se positiewe leerervaring.

Die ondersteuningsdienste van hoëronderwysinstellings wat afstandsonderrig bied moet gereeld opgeskerp word om te verseker dat studente positiewe administratiewe ondersteuning ontvang. Sodanige hoëronderwysinstellings moet dus toesien dat hulle op die voorpunt van tegnologiese ontwikkeling bly om administratiewe ondersteuning te vergemaklik.

Die NWU kan die bevindinge wat uit hierdie navorsing gespruit het, optimaal gebruik om leemtes in hul sisteem te identifiseer en aan te roer. Ook ander universiteite kan oplossings vind vir soortgelyke uitdagings wat ervaar word. Verder dra die bevindinge by tot die verryking van literatuur oor afstandsonderrig met betrekking tot studente-ondersteuning om ’n positiewe leerervaring te verseker.

Die navorsingsbevindinge kan ook aangewend word om die administratiewe bedryfstelsel van enige verdere en huidige kwalifikasie wat deur middel van afstandsleer aangebied word, te verfyn ten einde die studente se leerervaringe te verbeter. Laastens sal die bevindinge gebruik kan word om ’n positiewe bydrae te lewer tot die effektiewe implementering en ontwikkeling van ondersteuningstelsels in die aanbieding van huidige en toekomstige afstandsleerprogramme by NWU en ander afstandsonderriguniversiteite.

 

Bibliografie

Ally, M. en B.H. Khan. 2015. International handbook of e-learning, volume 2: Implementation and case studies. New York, NY: Routledge.

Bell, S. en D. Chris. 2016. Editorial: The breadth of open learning. Open Learning: The Journal of Open, Distance and e-Learning, 31(3):189–93.

Bosch, C., E. Mentz en R. Goede. 2019. Self-directed learning: A conceptual overview. In Mentz, De Beer en Bailey (reds.) 2019.

Carlsen, A., C. Holmberg, C. Neghina en A. Owusu-Boampong. 2016. Closing the gap: Opportunities for distance education to benefit adult learners in higher education. https://unesdoc.unesco.org/ark:/48223/pf0000243264 (20 Junie 2020 geraadpleeg).

De Hart, K.L., Y.B. Chetty en E. Archer. 2015. Uptake of OER by staff in distance education in South Africa. International Review of Research in Open and Distributed Learning, 16(2):18–45.

DHOO (Departement van Hoër Onderwys en Opleiding) sien Suid-Afrika. Departement van Hoër Onderwys en Opleiding.

Glazier R. A. 2016. Building rapport to improve retention and success in online classes. Journal of Political Science Education, 12(4):437–56. DOI:10.1080/15512169.2016.1155994.

Hummel, U.I.H. 2014. Barriers to learning: The difference distance learning can make in Namibia. http://oasis.col.org/handle/11599/2282 (7 Maart 2016 geraadpleeg).

Joubert, I., C. Hartell en K. Lombard. 2016. Navorsing: ’n Gids vir die beginnernavorser. Pretoria: Van Schaik.

Kalu, F. A. en J.C. Bwalya. 2017. What makes qualitative research good research? An exploratory analysis of critical elements. International Journal of Social Science Research, 5(2):43–56.

Kassandrinou, A., C. Angelaki en I. Mavroidis. 2014. Transactional distance among open university students: How does it affect the learning process? European Journal of Open, Distance and e-Learning, 17(1):26–42.

Landsberg, E., D. Krüger en E. Swart (reds.). 2016. Addressing barriers to learning. A South African perspective. 3de uitgawe. Pretoria: Van Schaik.

Maree, K. (red.). 2019. First steps in research. 2de uitgawe. Pretoria: Van Schaik.

Mentz, E., J. De Beer en R. Bailey (reds.). 2019. Self-directed learning for the 21st century: Implications for higher education. Kaapstad: AOSIS. https://doi.org/10.4102/aosis.2019.BK134.01 (20 Junie 2020 geraadpleeg).

Nieuwenhuis, J. 2019. Introducing qualitative research. In Maree (red.) 2019.

NWU (Noordwes-Universiteit). 2017. NWU management information report: Student statistics of the North-West University. http://www.nwu.ac.za/sites/www.nwu.ac.za/files/files/stud-stats/GR_Student_statistics_of_the_North-West_University.pdf (24 Oktober 2017 geraadpleeg).

—. 2020a. BEd Foundation Phase: Open distance learning prospectus. Potchefstroom: NWU.

—. 2020b. Fakulteit Opvoedkunde: Voorgraads-jaarboek. Potchefstroom: NWU.

Owusu-Boampong, A. en C. Holmberg. 2015. Impact of distance education on adult learning: Distance education in European higher education – the potential. http://unesdoc.unesco.org/images/0023/002351/235170E.pdf (20 Junie 2020 geraadpleeg).

Panopto. 2020. The video platform for distance learning: Panopto. https://www.panopto.com (28 Mei 2020 geraadpleeg).

RHO (Raad op Hoër Onderwys). 2014. Distance higher education programmes in a digital era: Good practice guide. Pretoria: RHO. https://www.saide.org.za/documents/CHE_-_Distance_Higher_Education.pdf (28 Mei 2020 geraadpleeg).

Redelinghuys, J. 2017. The use of interactive technology for effective teaching and learning in open distance learning programmes. PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit.

Roddy C., D.L. Amiet, J. Chung, C. Holt, L. Shaw, S. McKenzie, F. Garivaldis, J.M. Lodge en M.E. Mundy. 2017. Applying best practice online learning, teaching, and support to intensive online environments: An integrative review. Frontiers in Education, 2:59. DOI:10.3389/feduc.2017.00059.

Saldaña, J. 2016. The coding manual for qualitative researchers. 3de uitgawe. Los Angeles, CA: Sage.

Simonson, M., S. Smaldino en S.M. Zvacek. 2015. Teaching and learning at a distance: Foundations of distance education. 6de uitgawe. Charlotte, NC: Information Age.

Simonson, M. en D.J. Seepersaud. 2019. Distance education: Definition and glossary of terms. 4de uitgawe. Charlotte, NC: Information Age.

Spamer, M. 2017. Tegnologie en oop afstandsleer: Die sleutel tot meer toegang vir universiteitsopleiding. Word and Action = Woord en Daad, 56(430):15–8.

Subotzky, G. en P. Prinsloo. 2011. Turning the tide: A socio-critical model and framework for improving student success in open distance learning at the University of South Africa. Distance Education, 32(2):177–93.

Suid-Afrika. Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO). 2013. White paper for post-school education and training: Building an expanded, effective and integrated post-school system. http://hdl.voced.edu.au/10707/303712 (28 Mei 2020 geraadpleeg).

—. 2014. Policy for the provision of distance education in South African universities in the context of an integrated post-school system. Goewermentskennisgewing nr. 535. Staatskoerant 37811, 7 Julie.

Swart, E. en R. Pettipher. 2016. A framework for understanding inclusion. In Landsberg, Krüger en Swart (reds.) 2016.

Universitas Terbuka (Indonesia Open University). 2019. https://www.ut.ac.id/en (23 Junie 2020 geraadpleeg).

Unisa (Universiteit van Suid-Afrika). 2018. 2018 Annual report. https://www.unisa.ac.za/sites/corporate/default/News-&-Media/Publications/Annual-reports (23 Junie 2020 geraadpleeg).

—. 2020. Student support and regions. https://www.unisa.ac.za/sites/myunisa/default/Learner-support-&-regions (29 Mei 2020 geraadpleeg).

Zormanová, L. 2016. The comparison of distance learning between the Czech Republic and other European countries. International Journal of Research in e-Learning IJREL, 2(1):88–103.

Zuhairi, A., S. Julaeha en T.E.A. Sinar. 2013. Support system for large diverse groups of open and distance learning students in Indonesia. International Journal for Cross-Disciplinary Subjects in Education, 4(3):1197–204.

Zuhairi, A., N. Karthikeyan en S.T. Priyadarshana. 2019. Supporting students to succeed in open and distance learning in the Open University of Sri Lanka and Universitas Terbuka Indonesia. Asian Association of Open Universities Journal, 15(1):13–35.

Zwelibanzi, M. 2012. Multipurpose community centers in South Africa: An empirical study of select municipalities. Mediterranean Journal of Social Science, 3(12):53–76.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post BEd Grondslagfase-afstandsleerstudente se ervaring van administratiewe ondersteuning aan die Noordwes-Universiteit appeared first on LitNet.

Die ontleding van sosiogramme om die impak van koöperatiewe basisgroepe op positiewe interafhanklikheid in klasverband te ondersoek

$
0
0

Die ontleding van sosiogramme om die impak van koöperatiewe basisgroepe op positiewe interafhanklikheid in klasverband te ondersoek

Christa van Staden, Departement Rekenaarwetenskap en Informatika, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 17(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

In hierdie artikel lewer ek verslag oor navorsing wat volg op vorige navorsing1 waarin ek koöperatiewe basisgroepe (KBG’s) as tegniek gebruik het om saamleervaardighede tydens nagraadse afstandhoëronderwys te ontwikkel. Vir die doel van die genoemde navorsing het ek ’n klas in KBG’s ingedeel wat mekaar moes help, motiveer en ondersteun. Verskeie lede van die KBG’s het lede van ander KBG’s ook gehelp, ondersteun en gemotiveer. Gevolglik het positiewe interafhanklikheid oor die grense van KBG’s ontwikkel, maar dit is nie verder ondersoek nie. Ek het in die onderhawige studie op die klaswye ontwikkeling van hierdie eienskap van koöperatiewe leer gefokus. Ek het die 11 sosiomatrikse, of data oor verhoudings wat rondom elke besprekingspunt van ’n KBG gevorm het, saamgevoeg om ’n klaswye sosiomatriks te skep. Daarna het ek die data in die sagteware Ucinet ingevoer om verskeie sosiogramme van die geheelontwikkelingsnetwerk te skep. Die sosiogramme is met behulp van die volgende maatstawwe verken: komponente, wedersydse verhoudinge, sentraliteit, klieke en k-kern.2 Die belangrikste bevinding is dat ’n mate van positiewe interafhanklikheid in klasverband ontwikkel het. Al die aktiewe studente was met ten minste een verhouding in die geheelontwikkelingsnetwerk verweef, maar verskeie van die verhoudinge het nog nie in beide rigtings gevorm nie. ’n Interessante bevinding is dat 11 van die 13 onderskeidingskandidate deel van die k-kern gevorm het, wat daarop dui dat hulle die aktiefste tydens die gesprekke betrokke was. Vanuit hierdie posisies kon hulle vinnige toegang tot tasbare en nietasbare hulpbronne verkry, wat moontlik hulle akademiese prestasie kan verklaar. Geen besliste verband tussen koöperatiewe leer en uitstaande akademiese prestasie kan egter bevestig word nie omdat die tegniek slegs tydens die eerste semester toegepas is. Daar word aanbeveel dat ’n verband tussen uitstaande akademiese prestasie en netwerkposisies in opvolgstudies ondersoek word.

Kernwoorde: afstandhoëronderwys; geheelontwikkelingsnetwerk; koöperatiewe basisgroepe (KBG’s); nagraadse onderwys; positiewe interafhanklikheid; sosiale-netwerk-analise; sosiogramme

 

Abstract

The analysis of sociograms to investigate the impact of cooperative base groups on positive interdependence on class level

The research reported in this article follows upon the findings of a previous study3 that found cooperative base group (CBG) an effective technique to facilitate the development of cooperative learning skills in distance education. A summary of the previous study serves as background for this research.

The need for the research was identified after observing that the previous class did not participate in the discussions created by the previous lecturer or their peers in the forum of the learning management system (LMS). When asked why not, the response was that they perceived the LMS as an assessment tool and therefore they did not participate in the discussions. As the South African Qualifications Authority requires that higher education develops group working skills, it was considered important to integrate a technique in the curriculum to develop cooperative learning skills.

For the purpose of the first study, a post-graduate module purposing to equip students with the knowledge, skills and techniques to use instructional techniques and multimedia in their own higher education classrooms was selected. The class (N=77) was randomly divided into eleven small groups with seven members each. Then, a private group for the class was created in Arend,4 an online learning environment for South African teachers. A discussion was started for each of the CBGs on the communal wall of this group. The discussions started with the names of the members of the group, information about the CBG technique, and the instruction to participate in the specific discussion in such a way that it was clear that they assisted, motivated and supported one another during the year. Cooperative learning was facilitated during the first semester by asking “Who can assist?” and “Do you agree?” instead of providing the answers. An unexpected outcome was that some of the students also participated in the discussions of other CBGs. This was allowed as it indicated that the students were able to apply newly acquired skills in other settings. 

At the end of the semester 11 sociomatrices were created – one per group – to collect data about relationships established to assist, motivate and support one another. The matrix data was read into Unicet to create a sociogram for each of the CBGs. It was found that a degree of positive interdependence developed in nine of the CBGs, no reciprocal social ties were built in the tenth CBG, and the eleventh CBG never participated in their discussion. Based on the findings, it was concluded that the CBG technique is effective for developing cooperative learning skills in an e-learning environment for distance education students. It was also found that some of the students built mutual relationships (reciprocal ties) with students from other CBGs. This finding suggested that a degree of positive interdependence developed on class level, but it was not further investigated.

The purpose of this follow-up study was to investigate the development of positive interdependence on class level. Therefore, the eleven sociomatrices, or data regarding the relationships established in each of the CBGs to assist, motivate and support peers, were combined into a single sociomatrix representing the relationships built on class level. The data was also read into Ucinet to create several sociograms of the classwide development network,5 and the following measures were used to analyse the sociograms: components, reciprocal social ties, centrality, cliques, and k-core6 to investigate the development of positive interdependence on class level.

The most important finding of this study is that a degree of positive interdependence developed on class level during the application of the CBG technique in an e-learning environment for post-graduate students in distance education. Almost half of the class (47%) did not build relationships during the first semester, but all active students were connected with at least one social tie in the whole development network. Several of the relationships did not develop into mutual relationships, indicating a need to facilitate the development of cooperative learning skills. Most of the mutual relationships were found in the core of the development network, indicating a large degree of positive interdependence in the centre of this social network. 

An interesting finding was that 11 of the 13 students who passed later the year with distinctions were members of the k-core. This finding suggests that the knowledgeable students were not only the most active during cooperative learning and the establishment of CBGs, but they were also able to connect with the knowledgeable students in the class. This observation needs to be further investigated in CBG research as the technique was only applied during the first semester. The top achievers were able to identify the knowledgeable peers in the e-learning environment, and to build mutual relationships with them. From these network positions, they could get easy access to all intangible (social) and tangible (documents, etc.) resources needed, which might have contributed to their academic success.

It is recommended that the CBG technique be applied in follow-up studies for the duration of a course to investigate a correlation between outstanding academic achievement and central network positions during the application of the CBG technique.

The research has important implications for contact education as well. The COVID-19 pandemic resulted in a global move from contact education to e-learning since March 2020. In the process, the focus has shifted to the efficiency of facilitation and evaluation of learning and cooperative learning in e-learning environments. Teachers in contact education settings find cooperative learning a time-consuming process, which cannot be easily evaluated. Both of these problems were addressed in an e-learning environment. It was not time-consuming to facilitate cooperative learning. With a focus on relationships, sociograms of the development network provided an effective method to evaluate the degree of positive interdependence that developed on class level. It is recommended that students be allowed to assist, motivate and support peers in other CBGs as the students were provided with multiple opportunities to learn from peers on class level as well.

Keywords: cooperative base groups (CBGs); distance education; positive interdependence; post-graduate education; social network analysis; sociograms; whole development network

 

1. Inleiding

Die vermoë om doeltreffend in groepsverband saam te werk, moet sedert 1997 tydens Suid-Afrikaanse hoëronderwys ontwikkel word om graduandi vir 21ste-eeuse werksplekke gereed te maak (Suid-Afrikaanse Kwalifikasieraad 1997). Dit is egter nie die enigste rede waarom tegnieke in hoëronderwys gebruik behoort te word om saamleervaardighede te ontwikkel nie. Navorsing toon dat leer in groepsverband ’n positiewe impak op studente se sukses uitoefen (Johnson en Johnson 1994; 2013; Johnson, Johnson en Holubec 2008; Fransen, Weinberger en Kirschner 2013). Alhoewel groepwerkvaardighede ontwikkel moet word, stel die kwalifikasieraad nie tegnieke vir die ontwikkeling daarvan voor nie en word daar ook nie metodes voorgestel om die doeltreffendheid van groepwerkvaardighede te evalueer nie (Suid-Afrikaanse Kwalifikasieraad 1997). Daarsonder is dit moeilik om te verstaan hoe groepwerkvaardighede ontwikkel en beoordeel moet word.

In die praktyk word verskeie tegnieke gebruik om groepwerkvaardighede te ontwikkel (Johnson en Johnson 1994; 2013; Fransen e.a. 2013; Xie, Yu en Bradshaw 2014; Cerezo, Sánchez-Santillán, Puerto Paule-Ruiz en Núñez 2016). Elkeen van hierdie navorsers het sy eie voorstel gemaak oor metodes om die doeltreffendheid van leer in groepe te ondersoek. In die Suid-Afrikaanse konteks is bevind dat koöperatiewe basisgroepe (KBG’s) ’n doeltreffende manier bied om saamleervaardighede tydens kontak- en afstandhoëronderwys te ontwikkel (Lubbe 2015; Van Staden 2019a). Lubbe (2015) het op die ontwikkeling van selfgerigte leervaardighede gefokus om die doeltreffendheid van die KBG-tegniek te ondersoek.

Ek het die KBG-tegniek gebruik om die ontwikkeling van groepwerkvaardighede in afstandhoëronderwys te fasiliteer (Van Staden 2019a). Vir die doel van hierdie studie is ’n nagraadse klas (N=77) vir die duur van ’n kursus in elf KBG’s met sewe lede elk ingedeel. Een van die leertake het vereis dat die studente die drie take van ’n KBG onderneem, naamlik om mekaar op akademiese gebied te help, te ondersteun en ook te motiveer om akademiese werk te voltooi, soos deur Johnson e.a. (2008) voorgestel. Hierdie leertaak is as geskik geag omdat die groep studente vir dosentposte in hoëronderwyskontekste gereed gemaak is. In plaas daarvan om kennis oor die tegniek te toets, moes die studente die tegniek toepas en die doeltreffendheid van hulle eie saamleer beoordeel (Van Staden 2019a). Daarna is die doeltreffendheid van die tegniek ondersoek.

Ek het eers die fokus op die ontwikkeling van die vyf elemente van koöperatiewe leer – naamlik individuele en groepverantwoordelikheid, interpersoonlike en kleingroepvaardighede, bevorderlike gesprekke, groepverwerking en positiewe interafhanklikheid – geplaas (Van Staden 2019a) om die doeltreffendheid van die tegniek te beoordeel. Daar is bevind dat al die elemente van koöperatiewe leer binne die eerste ses maande in meerdere of mindere mate in die KBG’s ontwikkel het (Van Staden 2019a).

Daarna het ek sosiale-netwerk-analise gebruik om spesifiek op die ontwikkeling van een van die elemente, naamlik positiewe interafhanklikheid, te fokus. Die term positiewe interafhanklikheid verwys na ’n leersituasie waarin die lede van ’n groep glo dat hulle individueel en gesamentlik moet saamwerk as hulle ’n gedeelde doel wil bereik (Johnson en Johnson 1994; 2013). Data oor die verhoudinge wat tydens die toepassing van die KBG-tegniek gebou is, is ingesamel en in Ucinet (sagteware) ingevoer om die geheelontwikkelingsnetwerke wat rondom die besprekingspunte van die KBG’s gevorm het, te visualiseer. ’n Geheelontwikkelingsnetwerk is ’n sosiale netwerk bestaande uit die lede van die groep onder die soeklig en die verbindings (spesifieke verhoudinge) tussen hulle waarop ’n navorser fokus (Van Staden 2012). Dit kan dus ook omskryf word as die netwerk van die spesifieke verhouding(e) tussen die lede van die groep. Tydens die ontleding van die sosiogramme is bevind dat ’n mate van positiewe interafhanklikheid in nege van die KBG’s ontwikkel het (Van Staden 2019a).

’n Onverwagte uitkoms van die KBG-tegniek was dat die studente tydens die toepassing daarvan ook ander KBG-lede gehelp, ondersteun en gemotiveer het (Van Staden 2019a). Hulle het ook, soos ook Lubbe (2015) bevind het, die hulp, motivering en ondersteuning van medestudente aanvaar. Dit het daartoe bygedra dat positiewe interafhanklikheid oor die grense van KBG’s ontwikkel het (Van Staden 2019a). Alhoewel die vermoede gelug is dat positiewe interafhanklikheid ook op klasvlak kon ontwikkel het, is dit nie verder ondersoek nie (Van Staden 2019a).

Die doel van die huidige navorsing was om die data, wat vir die vorige studie ingesamel is, verder te ontleed om ondersoek in te stel na die mate waartoe positiewe interafhanklikheid tydens afstandhoëronderwys op klasvlak ontwikkel het om aanbevelings vir die verbetering van die praktyk te maak. Die navorsing is deur die volgende vraag gelei: In watter mate het positiewe interafhanklikheid tydens die toepassing van die KBG-tegniek in klasverband ontwikkel?

 

2. ’n Netwerkbenadering tot leer

Ek het die navorsing vanuit ’n netwerkbenadering tot leer onderneem. Daar is geredeneer dat studente op hulle netwerkvaardighede – of vermoë om verhoudinge met die regte mense te bou – sal staatmaak om hulle werk (beter) te doen (Ryymin, Palonen en Hakkarainen 2008; Van Staden 2012; Van Staden en Van der Westhuizen 2013; Van Staden 2019a). Daar is aangeneem dat die KBG-tegniek die studente van genoegsame geleenthede sou voorsien om die regte menslike hulpbronne (klasmaats) te identifiseer om hulle te help om akademiese sukses te bereik (Johnson e.a. 2008; Johnson en Johnson 2013; Lubbe 2015; Van Staden 2018; 2019a). Hierdie leerproses staan as genetwerkte leer bekend.

Die term genetwerkte leer word verskillend in die literatuur gebruik. Sommige navorsers beperk genetwerkte leer tot die leer wat in tegnologie-gesteunde leeromgewings plaasvind. Goodyear, Banks, Hodgson en McConnel (2006) redeneer dat genetwerkte leer verwys na die leer wat plaasvind wanneer inligting en kommunikasiemiddele gebruik word om die interaksie tussen twee studente, of tussen ’n student en die opvoeder, of tussen ’n student en studiemateriaal moontlik te maak. Die skrywers kom tot die gevolgtrekking dat die gebruik van aanlyn studiemateriaal nie die beste maatstaf bied om genetwerkte leer te definieer nie omdat mens-tot-mens-interaksies ’n belangrike komponent van genetwerkte leer vorm (Goodyear e.a. 2006).

Dit is juis op grond van hierdie gevolgtrekking dat Goodyear e.a. (2006) se definisie gekritiseer kan word. Dosente deel studiemateriaal met studente wanneer dit in die modules se spasies in leerbestuurstelsels gelaai word, daarom bou ’n student in wese ’n indirekte verhouding met die dosent wanneer die studiemateriaal afgelaai word. Die onderskeid tussen interaksies met die dosent en medestudente is ook onnodig. In al drie gevalle bou ’n student ’n verhouding met ’n individu om sy of haar doel te bereik, naamlik (a) indirek met die dosent wanneer die studiemateriaal afgelaai word omdat die dosent die studiemateriaal met die student gedeel het, (b) direk met die dosent wat saamgesels en (c) direk met sy of haar medestudente.

Die term genetwerkte leer verwys daarom in die huidige artikel spesifiek na enige van die bogenoemde verhoudinge wat tydens die leerproses gebou is om toegang tot nietasbare hulpbronne soos inligting, kennis, raad, leiding, ondersteuning en ervaring sowel as tasbare hulpbronne soos studiemateriaal te verkry om ’n doel te bereik, naamlik om leertake te voltooi (Van Staden 2012; 2019a). Hierdie verhoudinge kan nie tot leer in aanlyn omgewings beperk word nie omdat dit in die fisiese leefwêreld ook gebou en voortgebou kan word (Van Staden 2016b). Tegnologie is bloot hulpmiddels wat gebruik word om die verhoudinge te bou as dit nie in die fisiese leefwêreld moontlik is nie.

Jackson en Temperley (2006) redeneer dat genetwerkte leer uit vier prosesse bestaan, naamlik om saam met ander te leer, van ander te leer, in die plek van ander te leer en ook om meer oor eie leerprosesse te leer (metaleer). Hierdie vier leerprosesse is reeds in ander kontekste bevestig (Van Staden 2018; 2019b). Die vorige studie het getoon dat die studente wat die take van ’n KBG opgeneem het, saam met ander, by ander en in die plek van hulle eie KBG-lede geleer het – en dat hulle ook oor hulle eie leerprosesse geleer het. Daar kan dus afgelei word dat die studente van hulle netwerkvaardighede gebruik gemaak het om hulle leertake te voltooi.

Die uitkoms van genetwerkte leer is egter nie noodwendig positiewe interafhanklikheid nie, omdat die leerproses deur die teenwoordigheid van individualistiese en wedywerende leerders beïnvloed word (Johnson en Johnson 1994). Volgens Johnson en Johnson (1994) neem hierdie twee soorte leerders nie voldoende aan saamleergeleenthede deel nie.

Individualistiese leerders heg nie waarde aan groepwerk nie, daarom is dit moontlik dat sodanige leerders nie aan die KBG-gesprekke sou deelneem nie. Indien al die lede van ’n KBG individualistiese leerders is, sal geen interafhanklikheid ontwikkel nie (Johnson en Johnson 1994; 2013). Wedywerende leerders neig om by groepwerk te baat sonder om self te deel, om ’n wedywerende voordeel bo ander te bewerkstellig. Hulle neig om hulp, ondersteuning en motivering te ontvang, maar bied nie self aan nie. In so ’n geval sal negatiewe interafhanklikheid in ’n groep ontwikkel (Johnson en Johnson 1994; 2013).

Die doel van die KBG-tegniek was om die ontwikkeling van koöperatiewe leervaardighede te fasiliteer. Indien die studente mekaar help, ondersteun en motiveer, kan afgelei word dat positiewe interafhanklikheid ontwikkel het (Johnson en Johnson 1994; 2013). Verskeie navorsers het intussen bevind dat positiewe interafhanklikheid ’n positiewe impak op prestasie uitoefen.

Nam en Zellner (2011) het die studente wat vir drie universiteitksursusse geregistreer het eers in verband met spanwerk en koöperatiewe leer opgelei. Daarna is elk van die klasse in drie groepe ingedeel, naamlik ’n positiewe interafhanklike groep, ’n groepverwerkinggroep en ’n groep wat nie gestruktureer is nie. Die positiewe interafhanklike en groepverwerkinggroepe het verdere opleiding oor die twee spesifieke onderwerpe ontvang en die ongestruktureerde groep, wat as die kontrolegroep gedien het, het geen verdere opleiding gekry nie. ’n Belangrike bevinding is dat die positiewe interafhanklike groep beter as die groepverwerking- en kontrolegroepe presteer het. 

Brewer en Klein (2006) het ondersoek ingestel na die effek van die spesifieke soort positiewe interafhanklikheid (rol, beloning, rol-plus-behoort, en geen struktuur) en affiliasiemotiewe (hoog versus laag) in ’n asinchroniese, saamwerkende leeromgewing. Die deelnemers in die groepe waaraan rolle en belonings toegeken is, was beduidend meer betrokke as die deelnemers van groepe waaraan slegs rolle toegeken is of waar geen struktuur gegee is nie. Geen beduidende verskil kon gevind word in die prestasie per soort interafhanklikheid of affiliasiemotief nie. ’n Beduidende positiewe korrelasie het egter gesuggereer dat die deelnemers wat meer betrokke geraak het, ook beter in die natoetse presteer het.

Wanneer die fokus op die verhoudings tussen lede van ’n groep geplaas word, bied sosiale-netwerk-analise die geskikste metode om positiewe interafhanklikheid op klasvlak te ondersoek.

 

3. Sosiale-netwerk-analise as metode om interafhanklikheid te ondersoek

Volgens Buchs, Filippou, Pulfrey en Volpé (2017) skram hoërskoolonderwysers weg daarvan om koöperatiewe vaardighede te ontwikkel omdat hulle van mening is dat dit ’n tydrowende proses is en ook moeilik is om te evalueer. Hierdie navorsing is op die idee gebou dat die sosiale-netwerk-analise ’n metode bied om ’n element van koöperatiewe leer, naamlik positiewe interafhanklikheid, te ondersoek. 

Sosiale-netwerk-analise is ’n benadering tot navorsing wat nie op die individuele eienskappe van die lede van ’n groep fokus nie, maar op die verhoudinge wat die lede van die groep met mekaar gebou het om ’n doel te bereik (Cross en Parker 2004; Freeman 2004; Senekal 2013; Haya, Daems, Malzahn, Castellanos en Ulrich 2015; Avella, Kebritchi, Nunn en Kavai 2016). In die geval van die KBG-tegniek was die doel om verhoudinge met klasmaats te bou om gehelp, ondersteun en gemotiveer te word om akademiese sukses te bereik. Die sosiale-netwerk-analis fokus dus nie op al die verhoudinge wat in ’n groep gebou is nie, maar op ’n spesifieke verhouding, of stel verhoudinge, wat volgens hom of haar ’n impak op gedrag uitoefen.

Die oogmerk van sosiale-netwerk-analiste is om die impak van die spesifieke verhouding(e) op gedrag te verstaan en te voorspel. Die fokus is dus nie op unieke eienskappe soos ras, geslag, soort leerder, huislike omstandighede, of houding teenoor leer nie, maar op die spesifieke verhouding(e) wat gebou is om leer te bevorder (Moreno 1934; Freeman 2004). Tydens die bou van verhoudinge word lede van ’n groep in ’n sosiale netwerk verweef wat ondersoek kan word om die impak van verhoudings op gedrag te verstaan.

Volgens Freeman (2004) stel sosiale-netwerk-analise navorsers in staat om empiriese data stelselmatig in te samel om intuïtiewe aannames oor verbindingspatrone te ondersoek. Ek het die navorsing gebou op die aanname dat positiewe interafhanklikheid ook op klasvlak kon ontwikkel het. Verskeie tegnieke en maatstawwe, wat sedert 1934 ontwikkel is (Moreno 1934; Borgatti, Everett en Freeman 2002), kan gebruik word om die ontwikkeling van positiewe interafhanklikheid op klasvlak te ondersoek. Een hiervan is om ’n sosiogram – of visuele voorstelling van die geheelontwikkelingsnetwerk – te maak.

’n Sosiogram is ’n diagrammatiese voorstelling van ’n sosiale netwerk wat ontstaan het terwyl die lede van ’n groep verhoudinge met mekaar gebou het. In so ’n diagram word die lede van die groep met behulp van punte of simbole – of nodusse – voorgestel. Die verhoudinge tussen die lede van die groep word met behulp van lyne – of skakels – voorgestel (Moreno 1934; Freeman 2004). Moreno (1934), Freeman (2004), Chu, Wipfli en Valente (2014) en Molina e.a. (2014) beskou die ontleding van sosiogramme as ’n geskikte metode om abstrakte konsepte aan ander oor te dra, data op te som en modelle van verhoudinge te bou.

Die modelle kan gebruik word om die doeltreffendheid van die verhoudinge te ondersoek omdat ’n sosiale netwerk die lewe in ’n sosiale en kultuurhistoriese raamwerk weerspieël (Molina e.a. 2014). Vir die doel van die huidige ondersoek is geredeneer dat die studente tydens die vestiging van KBG’s in ’n geheelontwikkelingsnetwerk verweef sou word (teorie). Hierdie teorie kan ondersoek word as die fokus geplaas word op die geheelontwikkelingsnetwerk wat tydens die toetsing van die teorie in die praktyk ontwikkel het; sodoende kan aanbevelings vir die praktyk gemaak word. Aangesien ’n sosiogram op enige gegewe oomblik bestaan uit die werklike verhoudinge wat gebou is om ’n doel te bereik (Freeman 2004; Molina e.a. 2014), kan data oor die nuwe verhoudinge gebruik word om die impak van ’n ingryping (die KBG-tegniek) op gedrag (interafhanklikheid) te ondersoek. Aanbevelings vir die verbetering van die praktyk kan gemaak word omdat die netwerk van verhoudinge verander sodra nuwe verhoudinge gevorm of oues verbreek word – daarom behoort data gereeld ingesamel te word om die impak van ’n ingryping op gedrag te bestudeer.

Gebaseer op hierdie twee eienskappe van sosiale netwerke – naamlik (a) dat hulle op enige gegewe oomblik stabiel is, maar (b) verander sodra nuwe verhoudinge gebou of oues verbreek word – kan teorieë oor die invloed van verhoudinge op gedrag geskep en in die praktyk getoets word (Molina e.a. 2014). Volgens Philip (2010) bied sosiogramme ’n kragtige hulpmiddel om navorsers in staat te stel om die dinamiek van die kennisbouproses konsekwent op ’n meetbare manier te demonstreer.

Alhoewel sosiale-netwerk-analise ’n kragtige metode bied om die impak van verhoudinge op menslike gedrag te verstaan (Moreno 1934; Borgatti, Everett en Freeman 2002; Cross en Parker 2004; Freeman 2004), is hierdie metode nog onderbenut in opvoedkundige navorsing om die doeltreffendheid van genetwerkte leer te ondersoek.

Saqr en Alamro (2019) het sosiale-netwerk-analise gebruik om probleemgebaseerde leer in ’n aanlyn leeromgewing te ondersoek en bevind dat dit ’n praktiese metode bied om interaksies in ’n probleemgebaseerde leeromgewing op ’n betroubare manier te ondersoek.

Toikkanen en Lipponen (2011) het ondersoek ingestel na hoe sosiale-netwerk-analise gebruik kan word om die doeltreffendheid van genetwerkte leer te ondersoek. Volgens die twee outeurs bied digtheid nie ’n goeie maatstaf om die doeltreffendheid van genetwerkte leer te ondersoek nie (Toikkanen en Lipponen 2011).

Liu, Chen en Tai (2017) het ondersoek ingestel na hoe die leerders van ’n laerskool spanne vorm en saam werk om multimediastories te skep. Hierdie skrywers het sosiale-netwerk-analise gebruik om die netwerkaktiwiteite te ondersoek en gevind dat leerders meer by aktiwiteite betrokke was as hulle toegelaat is om self hulle spanne te kies. ’n Interessante bevinding is dat die leerders met die laer kennisvlakke volgens die drie skrywers aktiewer in die sosiale netwerk was (Liu e.a. 2017) omdat dit teenstrydig met netwerkteorie is. Daar word gereeld bevind dat die kenners die aktiefste in sosiale netwerke is en dus in die kern van die netwerke gevind kan word.

Cela, Sicillia en Sanchez (2015) is van mening dat sosiale-netwerk-analise veral geskik is om leer te ondersoek wanneer dit met inhoudsanalise gekombineer word. Sodoende kan ’n gedetailleerde begrip van die aard van die interaksies tussen die lede van die netwerk moontlik gemaak word om opvoeders te help om kursusse te verbeter en om studente te identifiseer wat die gevaar loop om uit te val (Cela, Secillia en Sanchez 2015). Daarmee word die fokus op die metode vir die insameling van netwerkdata – of die verhoudinge tussen lede van ’n groep – geplaas.

Navorsers gebruik dikwels die netwerkdata – of data oor die verhoudinge wat tussen lede van ’n groep gevorm het − wat deur leerbestuurstelsels gegenereer word om sosiale netwerke te visualiseer. Sodanige datastelle kan nie net so gebruik word nie omdat elke navorser op spesifieke verhoudinge fokus. Daarom moet die data verder ontleed word om slegs die verhoudinge waarin die navorser belangstel te identifiseer (Moreno 1934; Van Staden 2012; 2016; 2019a). Slegs dan kan bevindinge oor die impak van die verhoudinge op menslike gedrag gemaak word.

Die stel verhoudinge wat gebruik word om by ander te leer, staan as ’n student se persoonlike ontwikkelingsnetwerke bekend (Van Staden 2012). Aangesien hierdie verhoudinge nie in isolasie gebou word nie, word die studente tydens genetwerkte leer in ’n onsigbare sosiale netwerk verweef, waarna in hierdie navorsing as ’n geheelontwikkelingsnetwerk verwys word (Van Staden 2012).

Die geheelontwikkelingsnetwerk kan met behulp van verskeie tegnieke en maatstawwe ondersoek word om die positiewe interafhanklikheid van die studente te ondersoek (Van Staden 2019a). Die assesserings-, evaluerings-, diagnostiese, voorspellings-, remediërende, fasiliterings-, moniterings- en bestuurswaarde van sosiale-netwerk-analise is reeds bevestig (Philip 2010; Van Staden 2012; 2016b). Die maatstawwe wat vir die doel van hierdie navorsing gebruik is om die sosiogramme te ontleed, word in afdeling 5 bespreek.

 

4. Agtergrond

Dit is nodig om die leser met die inhoud van die vorige navorsing vertroud te maak omdat hierdie navorsing op die vorige bevindinge voortbou. Soos reeds genoem, is ’n nagraadse module in afstandhoëronderwys by die navorsing betrek. Die doel van die module is om studente vir onderrig in hoëronderwyskontekste gereed te maak, daarom moes hulle die nodige kennis, vaardighede en tegnieke ontwikkel om doeltreffend te onderrig en om leer te fasiliteer. Een van die tegnieke wat gebruik kan word om leer te fasiliteer, is KBG’s.

Die klas het nie – soos vorige klasse – ’n finale eksamen geskryf nie. Hulle moes e-portefeuljes vir finale beoordeling indien. Die samestelling van die kurrikulum vir die e-portefeuljes is vanuit ’n leergeoriënteerde perspektief op assessering benader (Van Staden 2016a; 2019b). Verskeie van die leertake is ontwerp met die doel om geleenthede vir ervaringsleer te skep. Een hiervan was koöperatiewe basisgroepe.

Die alfabetiese klaslys is gebruik om die klas (N=77) ewekansig in 11 KBG’s met sewe lede elk in te deel. Die studente is – van bo na onder – aaneenlopend van 1–11 genommer om 11 groepe te vorm. Die groepe is daarna van A–K genommer en die lede van elke KBG is van 1 tot 7 genommer om ’n kode – soos byvoorbeeld K6 (sesde lid van KBG K) – vir elke student te skep. Hierdie ewekansige toekenning van studente aan KBG’s het tot ’n groot mate tot heterogeniteit bygedra (tabel 1).

Tabel 1. Heterogeniteit van die KBG’s (Van Staden 2019a)

Een van die groepe (KBG J) was homogeen ten opsigte van ras (tabel 1), maar die groepe is nie weer ingedeel nie omdat geen groep homogeen ten opsigte van geslag was nie. ’n Privaat groep is vir die klas in ’n aanlyn leeromgewing vir Suid-Afrikaanse onderwysers gestig. Daarna is ’n besprekingspunt vir elke KBG op die gemeenskaplike muur geskep wat die name van die lede van die spesifieke KBG geïdentifiseer het, waarna die take van ’n KBG uitgelig is. Ek het die studente in die tweede studiebrief genooi om aan die gesprekke van hulle eie KBG’s deel te neem (Van Staden 2019a).

Gedurende die eerste ses maande het die hele klas by die groep vir die klas in die aanlyn leeromgewing vir onderwysers aangesluit, maar 46,7% van die klas het teen einde Junie – toe ek die universiteit verlaat het – nog nie aan die gesprekke deelgeneem nie. Genoegsame data is gedurende die eerste ses maande geskep om die doeltreffendheid van die KBG-tegniek te ondersoek.

Ek het bevind dat verskeie van die studente aan hulle eie KBG-gesprekke – sowel as aan die gesprekke van ander KBG’s – deelgeneem het, met die gevolg dat verskeie van die KBG’s tydens die verloop van die ondersoek uitgebrei het (tabel 2).

Tabel 2. Uitgebreide KBG’s

In tabel 2 is dit duidelik dat geen student aan die besprekingspunt van KBG H deelgeneem het nie, dus het KBG H nie gevestig nie. H2 het wel aan die gesprekke van ander KBG’s deelgeneem. Twee tot vyf lede van die tien aktiewe KBG’s het aan die gesprekke van hulle eie KBG’s deelgeneem. Verskeie studente het aan die gesprekke van ander KBG’s deelgeneem. D2 was die enigste KBG-lid wat aan al die gesprekke van die aktiewe KBG’s deelgeneem het, waaruit afgelei kon word dat positiewe interafhanklikheid ook in klasverband ontwikkel het. Die sosiogram van een van die KBG’s, naamlik KBG E, word hier gebruik om die behoefte aan die huidige studie te motiveer (figuur 1).

Figuur 1. KBG E met die dosent se verhoudinge ingesluit (Van Staden 2019a)

In figuur 1 word die oorspronklike lede van KBG E met groen simbole aangedui, die lede van ander KBG’s met geel en die KBG-lede wat nie aan die gesprek deelgeneem het nie word met rooi simbole in die linkerkantste kolom aangedui.

Wat verhoudinge betref, verteenwoordig die groen lyne wedersydse verhoudinge, dus was studente soos E1 en E6 positief interafhanklik. Die geel lyne verteenwoordig verhoudinge wat net in een rigting gevorm het, wat op negatiewe interafhanklikheid kan dui. Die pylpunte by ’n nodus dui die ingraad van ’n nodus aan, dus die studente wat deur die nodus gehelp, gemotiveer of ondersteun is. Die pylsterte dui die uitgraad van ’n nodus aan, of die mate waartoe die nodus deur ander nodusse gehelp, ondersteun of gemotiveer is.

Aangesien die fokus op die ontwikkeling van positiewe interafhanklikheid was, is die verhoudinge met die EK-nodus (dosent) verwyder om die fokus op interafhanklikheid in die groep te plaas (figuur 2).

Figuur 2. KBG E sonder die dosent se verhoudinge

In figuur 2 kan gesien word dat die sosiogram van die geheelontwikkelingsnetwerk daarna minder dig was, maar geen lid het verwyderd geraak nie. Daar kan afgelees word dat E1 en E6 positief interafhanklik was en dat E3 en E6 ook positief interafhanklik was, maar dat E1 en E3 nie positief interafhanklik was nie omdat hulle nie met ’n direkte lyn verbind is nie. Daar kon ook afgelei word dat positiewe interafhanklikheid oor die grense van die KBG ontwikkel het omdat I3, E6 en D2 met groen lyne verbind was. Daar is egter nie verder ondersoek ingestel na die ontwikkeling van positiewe interafhanklikheid in klasverband nie. In die huidige studie fokus ek op die ontwikkeling van positiewe interafhanklikheid in klasverband.

 

5. Empiriese ondersoek

Die navorsing is vanuit ’n pragmatiese lewensuitkyk onderneem omdat pragmatisme volgens Creswell en Plano Clark (2007) ’n geskikte lens vir probleemgesentreerde navorsing bied. Die fokus van pragmatiese navorsing is nie bloot op die probleem wat ondersoek word nie, maar ook op maniere waarop die praktyk verbeter kan word (Creswell en Plano Clark 2007). Die doel van hierdie studie was, soos reeds genoem, nie om die KBG-tegniek perfek toe te pas nie, maar eerder om die impak van die KBG-tegniek op die ontwikkeling van positiewe interafhanklikheid in klasverband te verstaan.

5.1 Etiese klaring

Die navorsing het gehandel oor my eie praktyk en spesifiek om te verstaan hoe die leertake verbeter kan word. Dit het deel gevorm van my navorsingsprojek getiteld “Fostering self-directed and cooperative learning during distance education” waarvoor die universiteit etiese klaring verleen het. Toestemming is verkry om toegang tot biografiese inligting, geassesseerde werkopdragte en die punte van die studente te verkry om die doeltreffendheid van leertake te ondersoek (verwysingsnommer: 2015/03/18/52265749/18/MC). Die studente het tydens aansluiting by die aanlyn leeromgewing vir onderwysers skriftelik toestemming gegee dat data vir navorsingsdoeleindes gebruik kan word. Kodes word gebruik om die studente se identiteit te beskerm.

Dit is nodig om daarop te let dat hierdie navorsing nie ex post facto7 is nie – dit vorm deel van die genoemde navorsingsprojek waarvoor etiese klaring verkry is. Toestemming vir die insameling van die data is dus voor die aanvang van die vorige navorsing verkry en die data word hier bloot verder verwerk om op die ontwikkeling van positiewe interafhanklikheid op klasvlak te fokus sodat aanbevelings vir die verbetering van die praktyk gemaak kan word.

Die identiteit van die studente word met dieselfde kodes beskerm as wat vir die vorige navorsing geskep is.

Alhoewel dit ’n formele leertaak was, is geen student gedurende die eerste ses maande verplig om aan die gesprekke deel te neem nie. Die fokus vir assessering was nie op deelname aan die gesprekke nie, maar op ’n beoordeling van die KBG-tegniek, soos die studente dit self ervaar het. Die studente sou dus nie punte vir deelname aan die navorsing verdien nie, maar vir ’n beoordeling van die bruikbaarheid van die tegniek in hulle eie klaskamers.

5.2 Strategie om verantwoordbare navorsing te bevorder

Volgens Babbie en Mouton (2006) moet ’n studie geloofwaardig wees voordat dit oordraagbaar kan wees, met ander woorde, die skrywer moet daarin slaag om die leser te oortuig om aandag aan die navorsing en die bevindinge te skenk. Aangesien die studie in ’n werklike afstandhoëronderwyskonteks uitgevoer is, kan dit die leser oortuig om aandag aan die bevindinge te skenk.

Sosiale-netwerk-analise-navorsers maak dikwels op die deelnemers staat om die verhoudinge te identifiseer, met die gevolg dat sommige verhoudinge ongeïdentifiseerd kan bly indien die deelnemers daarvan vergeet. Die netwerkdata vir hierdie studie is self in ’n aanlyn leeromgewing ingesamel. Aangesien die navorser toegang tot die presiese artefakte van die gesprekke gehad het, kon die betroubaarheid van die netwerkdata verhoog word. Dit mag die leser ook oortuig om van die bevindinge van die studie kennis te neem.

Wat die oordraagbaarheid betref, rus die onus op die leser om te bepaal in watter mate die bevindinge in ander kontekste, met ander deelnemers, toegepas kan word (Babbie en Mouton 2006). Die leser kan tydens die proses gehelp word indien die prosesse en besluitnemingsproses(se), soos in hierdie artikel, deeglik beskryf word.

Laastens moet navorsing betroubaar wees, met ander woorde bewys moet gelewer word dat dieselfde bevindinge gemaak sal word indien die navorsing met dieselfde of soortgelyke deelnemers in dieselfde konteks herhaal word (Babbie en Mouton 2006). Die betroubaarheid van die navorsing word verhoog deur presies te beskryf watter prosesse gevolg is om die KBG’s te vestig, hoe leer gefasiliteer is en watter verhoudinge in die aanlyn leeromgewing geïdentifiseer is om die ontwikkeling van positiewe interafhanklikheid te ondersoek. Die belangrike rol van die dosent as fasiliteerder van leer is ook beklemtoon. Daarom word die verhoudinge met die dosent eers aangetoon en dan verwyder om die impak daarvan op positiewe interafhanklikheid te ondersoek. 

5.3 Metode: Ontleding van sosiogramme

Die benadering tot navorsing, naamlik sosiale-netwerk-analise, is reeds onder afdeling 3 bespreek om die leser met die besprekings van die agtergrond tot die ondersoek vertroud te maak. Die motivering vir die gebruik van sosiogramme om positiewe interafhanklikheid te ondersoek, is ook onder afdeling 3 bespreek. Hier is dit dus net nodig om te noem dat verskeie sosiogramme van die klaswye geheelontwikkelingsnetwerk ontleed gaan word om die ontwikkeling van positiewe interafhanklikheid in klasverband te ondersoek. 

5.4 Data-insameling

Die metode vir die insameling van die netwerkdata vir die sosiogramme van elkeen van die KBG’s is reeds in die vorige ondersoek volledig beskryf (Van Staden 2019a). Netwerkdata is kwantitatiewe data oor die aan- en afwesigheid van ’n spesifieke verhouding tussen twee lede van ’n groep. Vir elke KBG is slegs die verhoudinge wat gebou is om medestudente te help, ondersteun of motiveer geïdentifiseer en in ’n sosiomatriks ingevoer. Hierdie elf stelle netwerkdata is vir die doel van hierdie ondersoek in ’n enkele klaswye sosiomatriks ingevoer.

’n Sosiomatriks is ’n tabel waarin die rye en kolomme die lede van die groep onder die soeklig verteenwoordig. Hierdie sosiomatriks het uit 78 rye en 78 kolomme bestaan omdat die verhoudinge met die dosent ook ingevoer is. Die rye verteenwoordig diegene wat hulp, ondersteuning of motivering ontvang het en die kolomme diegene wat ander studente gemotiveer, gehelp of ondersteun het. Die data is soos volg ingevoer: As A2 vir A1 gehelp het, is ’n “1” in ry A1 (ontvanger) onder kolom A2 (hulpverlener) geplaas (tabel 3).

Tabel 3. Voorbeeld van hoe data in die sosiomatriks ingevoer word

Indien die verhouding meer kere gebruik is, word die presiese getal in die kolom ingevoer, byvoorbeeld 22 (tabel 3). Indien geen verhouding gebou is nie, word ’n 0 in die kolom geplaas (tabel 3). ’n Tweede sosiomatriks is geskep deur die ry en kolom wat die dosent verteenwoordig uit te vee om positiewe interafhanklikheid in klasverband te ondersoek. Beide datastelle is daarna in Ucinet8 (Borgatti, Everett en Freeman 2002) ingevoer om twee netwerklêers te skep en die netwerklêers is daarna in Netdraw9 ingevoer om sosiogramme van die geheelontwikkelingsnetwerk te skep.

5.5 Data-ontleding

Sedert Moreno die eerste sosiogram geskep het, het navorsers ’n wye verskeidenheid maatstawwe ontwikkel wat gebruik kan word om sosiogramme op gemeenskapsvlak, maar ook op verbindings-, nodus- en groepvlak te ontleed (Borgatti e.a. 2002; Van Staden 2012; Robins 2015). Die keuse van maatstawwe vir hierdie ondersoek word vervolgens bespreek.

5.5.1 Komponente

Dit was eerstens nodig om te bepaal of ’n gefragmenteerde geheelontwikkelingsnetwerk ontwikkel het, met ander woorde om te bepaal of daar groepe losstaande nodusse is wat met mekaar verbind is, maar nie met die netwerk nie. So ’n losstaande groep nodusse staan as ’n komponent bekend.

’n Komponent is dus ’n groep nodusse wat met mekaar verbind is, maar nie met die res van die netwerk nie. Indien ’n KBG – soos in die geval van die groepe wat Saqr en Alamro (2019) bestudeer het – slegs aan hulle eie gesprekke deelgeneem het (figuur 3), sou die geheelontwikkelingsnetwerk uit elf losstaande komponente bestaan.

Figuur 3. Voorbeeld van ’n sosiale netwerk wat uit komponente bestaan (Saqr en Alamro 2019)

Daar sou voorspel kon word dat die geheelontwikkelingsnetwerk uit tien komponente sou bestaan omdat die elfde groep nie deelgeneem het nie. Maar die vorige studie het reeds bevind dat die studente verhoudinge met lede van ander KBG’s gebou het. ’n Student soos D2, wat aan al die aktiewe gesprekke deelgeneem het, kon byvoorbeeld ’n brug vorm wat komponente aan die geheelontwikkelingsnetwerk verbind. Daarom is daar eerder voorspel dat ’n gefragmenteerde geheelontwikkelingsnetwerk ontwikkel het.

5.5.2 Wedersydse verhoudinge

Die KBG-tegniek het vereis dat die studente verhoudinge met mekaar bou. Daarom dui wedersydse verhoudinge daarop dat twee studente positief interafhanklik was omdat hulle mekaar gehelp, ondersteun en gemotiveer het. Indien die verhouding net in een rigting gevorm het, is die twee lede nie positief interafhanklik nie omdat een van die twee by die verhouding baat sonder om self te gee. Dit kan op negatiewe interafhanklikheid dui, maar die leertaak is vroegtydig gestaak. Daarom kan dit ook bloot wees dat die studente nog nie kans gekry het om self te help, ondersteun en motiveer nie.

5.5.3 Sentraliteit van nodusse

Cela, Sicillia en Sanchez (2015) het ’n oorsig onderneem van die gebruik van sosiale-netwerk-analise om die doeltreffendheid van leer in e-leeromgewings te ondersoek. Volgens hierdie drie skrywers word twee maatstawwe in die meeste van die studies gebruik, naamlik sentraliteit en digtheid. Sentraliteit word bereken deur die in- en uitgraad van nodusse te ondersoek. Ingraad verwys na die hoeveelheid inkomende pylpunte (versoeke) wat ’n nodus ontvang het. Hoe hoër die ingraad, hoe hoër die sentraliteit van die nodus in die sosiale netwerk. Uitgraad verwys na die hoeveelheid pylsterte by ’n nodus, of die hoeveelheid kere wat ’n nodus versoeke om hulp, ondersteuning en motivering gerig het. Nodusse met ’n uitgraad maar geen ingraad nie dui op die teenwoordigheid van wedywerende leerders wat by die saamleergeleenthede baat sonder om self bydraes te maak.

5.5.4 Klieke

’n Kliek is ’n groepie nodusse wat dig verweef is, met min skakels na ander dele van die sosiale netwerk. ’n Kliek is nie noodwendig ’n goeie eienskap van ’n sosiale netwerk nie, omdat dit daarop kan dui dat van die lede van die groep nou saamwerk, maar nie maklik met ander deel nie. Die volgende algoritme van Ucinet is gebruik om die klieke te identifiseer: Network>Subgroups>cliques om die ontwikkeling van positiewe interafhanklikheid in kliekverband te ondersoek. 

5.5.5 Die k-kern

Die term k-kern verwys na die getal bure (verhoudinge) wat ’n nodus met ander nodusse gebou het (IBM Knowledge Center 2017). Die doel van die maatstaf is om al die nodusse met dieselfde getal verhoudinge te identifiseer. Daarom verwys ’n k-waarde van 1 na al die nodusse wat slegs een verhouding gebou het en ’n k-waarde van 2 na al die nodusse wat twee verhoudinge gebou het. Die doel is om die diggeweefde deel van die sosiale netwerk te bepaal, dus verteenwoordig die groep met die hoogste k-waarde die kern van die sosiale netwerk. Elkeen van die lede van hierdie groep nodusse met die hoogste k-waarde is met meer nodusse verbind as die nodusse met laer k-waardes.

Vir die doel van hierdie ondersoek is die volgende algoritme van Ucinet gebruik om die k-kern te identifiseer: Network>Regions>k-core. Hierdie diggeweefde deel is daarna verder verken om die ontwikkeling van positiewe interafhanklikheid te beskryf.

 

6. Resultate

Die resultate word vervolgens beskryf.

6.1 Komponente

Anders as in die geval van Saqr en Alamro (2019) se bevindinge oor navorsing in groepsverband, het geen komponente gevorm nie omdat die studente die grense van hulle KBG’s oorskry het (figuur 4).

Figuur 4. Geheelontwikkelingsnetwerk met die dosent (EK)

Uit figuur 4 kan afgelees word dat al die aktiewe nodusse met ten minste een verbinding in die geheelontwikkelingsnetwerk ingeweef was. Aangesien H2 (onder figuur 4) ’n enkele verhouding met die dosent (EK) gebou het, het hierdie nodus afgesonderd geraak toe die EK-nodus verwyder is (figuur 5).

Figuur 5. Geheelontwikkelingsnetwerk sonder die dosent

6.2 Wedersydse verhoudinge

Uit figuur 5 blyk dat die meeste van die wedersydse verhoudinge tussen nodusse in die k-kern van die geheelontwikkelingsnetwerk gebou is. Tog het drie van die studente aan die rand van die geheelontwikkelingsnetwerk ook daarin geslaag om wedersydse verhoudinge met lede van die kern te bou, naamlik I5, B6 en B7. I5 het ’n wedersydse verhouding met A7, ’n lid van ’n ander KBG, gebou en B6 en B7 het elk ’n verhouding met ’n lid van hulle eie KBG, naamlik B1, gebou. B1 het egter nie – soos B6 en B7 – aan die rand van die geheelontwikkelingsnetwerk gefunksioneer nie.

Daar kan afgelei word dat positiewe interafhanklikheid tussen al die studente wat met wedersydse verhoudinge verbind was, ontwikkel het. Daar kan ook afgelei word dat baie van die nodusse in die kern van die geheelontwikkelingsnetwerk positief interafhanklik was.

’n Groot groep van die studente het egter nog nie daarin geslaag om wedersydse verhoudinge te stig nie. Studente soos I1 (links op figuur 5) en K6 (regs op figuur 5) is deur verskeie studente gehelp, gemotiveer of ondersteun, maar hulle het nog nie die taak opgeneem om medestudente te help, motiveer of ondersteun nie.

Die meeste van hierdie studente het aan die rand van die geheelontwikkelingsnetwerk gefunksioneer. Nodusse soos D6, I2, I1 en A4 het voordeel getrek uit verhoudinge (stert van die grys pyl), maar nie self gehelp, gemotiveer of ondersteun nie. Studente soos F7, G6 en D1 het gehelp, gemotiveer en ondersteun, maar is nie self gehelp, gemotiveer of ondersteun nie. 

6.3 Sentraliteit van nodusse

Gemeet aan die uitgraadsentraliteit van die nodusse het baie van die studente hulp, ondersteuning en motivering van die verskeie studente ontvang (pylsterte). Verskeie studente het egter ook ’n hoë ingraad gehad, wat daarop dui dat hulle verskeie klasmaats gehelp, ondersteun en gemotiveer het. Vergelyk byvoorbeeld die ingraad van E6 en D2 (22). Daar kan afgelei word dat die twee studente (figuur 5) kernposisies geskep het terwyl hulle hulle netwerkvaardighede gebruik het om vinnige toegang tot tasbare en nietasbare hulpbronne te verkry.

6.4 Klieke

’n Totaal van 56 klieke het gevorm. Die grootste kliek het uit nege van die 41 nodusse bestaan, naamlik D2, D3, D7, E6, F2, F5, I3, K2 en K3 en die kleinste kliek uit drie van die nodusse, naamlik D2, F2 en G6. Beide hierdie klieke het uit lede van verskillende KBG’s bestaan, wat daarop dui dat interafhanklikheid in klasverband ontwikkel het. Aangesien die studente veronderstel was om mekaar te help, ondersteun en motiveer, dui die groot getal klieke daarop dat die studente daarin kon slaag om verskeie klasmaats as menslike hulpbronne te identifiseer.

Die rigting van die verbindings in die klieke word vervolgens gebruik om enkele van die positief afhanklike klieke te identifiseer.

Wedersydse verbindinge het in KBG C tussen drie van die lede gevorm, naamlik C1<–>C5; C5<–>C7; en C7<–>C1, wat daarop dui dat hierdie kliek – bestaande uit lede van ’n KBG – positief interafhanklik was.

Wedersydse verbindings het ook tussen twee lede van ’n KBG en ’n lid van ’n ander KBG gevorm, naamlik D2<–>E6; E6<–>D7; D7<–>D2, wat daarop dui dat ’n positief interafhanklike kliek oor die grense van ’n KBG gevorm het.

Die laaste voorbeeld dui daarop dat ’n positief interafhanklike kliek uit lede van verskillende KBG’s bestaan het, naamlik I5<–>B6; B6<–>B7; B7<–>I5.

Indien na ’n spesifieke KBG gekyk word, byvoorbeeld KBG E, kan afgelees word dat drie van die lede (E1, E3 en E6) positief interafhanklik was, maar dat geen kliek gevorm het nie omdat E6 en E3 nie direk verbind is nie (figuur 2). Daar kan dus afgelei word dat ’n mate van positiewe interafhanklikheid tussen die oorspronklike lede van KBG E ontwikkel het, maar dat geen kliek gevorm het nie.

6.5 K-kern

Daarna is die k-kern van die geheelontwikkelingsnetwerk (sonder die dosent) bepaal (figuur 6).

Figuur 6. Die k-kern van die geheelontwikkelingsnetwerk

Die kleur van die nodus dui aan dat die nodus deel vorm van ’n groep nodusse wat dieselfde getal verbindings met ander nodusse gebou het. In figuur 6 het die swart nodusse elkeen slegs een verhouding gebou, dus is die k-waarde van die swart nodusse 1. Hierdie nodusse lê aan die rand van die geheelontwikkelingsnetwerk.

Die k-waarde van die twintig nodusse (rooi) in die kern van die geheelontwikkelingsnetwerk is 10, wat beteken dat elkeen van hulle 10 verhoudinge gebou het. Dit is vier meer as die vereiste ses verhoudinge per KBG-lid. Twintig nodusse het deel van die k-kern gevorm, wat impliseer dat hierdie 20 studente met 10 van die ander lede van die k-kern verbind was.

Vier van die nodusse het enkele verbindinge gekort om wel deel van die k-kern uit te maak, naamlik C4 en F1, wat nege verhoudinge gebou het en K1 en J4 wat elkeen agt verhoudinge gebou het. Behalwe vir D6, kon al die nodusse aan die rand van die geheelontwikkelingsnetwerk toegang tot ten minste een van die lede van die k-kern verkry. D6 kon egter, deur sy verbinding met I5, wel toegang tot drie lede van die k-kern verkry (figuur 6).

 

7. Bevindinge en aanbevelings vir verbeterings van praktyk

Die belangrikste bevinding is dat sosiale-netwerk-analise ’n bruikbare metode bied om die ontwikkeling van positiewe interafhanklikheid in klasverband te ondersoek. Tydens die ontleding van die sosiogramme van die geheelontwikkelingsnetwerk is bevind dat geen komponente gevorm het nie, dus was al die aktiewe KBG-lede met ten minste een verhouding in die geheelontwikkelingsnetwerk verweef.

Die studente wat wedersydse verhoudinge met klasmaats gebou het, was positief interafhanklik omdat hulle mekaar gehelp, ondersteun en gemotiveer het. ’n Opmerking van K1, wat nie deel van die k-kern gevorm het nie, dui op ’n verband tussen die KBG-tegniek en uithouvermoë (Van Staden 2019a:463):

Learning occurs in many different ways. Some of which result in strangers becoming friends and it is really amazing when this occurs in an open distant learning environment. I have learnt and have been guided by my peers, who I do not know or have met.

Verskeie van die studente het nog nie wedersydse verhoudinge gebou nie, wat op negatiewe interafhanklikheid kan dui. Aangesien wedywerende leerders tot die ontwikkeling van negatiewe interafhanklikheid in groepe bydra omdat hulle neem sonder om self te gee, word daar aanbeveel dat sodanige studente in opvolgstudies vroegtydig geïdentifiseer word om die ontwikkeling van koöperatiewe leervaardighede te fasiliteer.

Bykans die helfte (20) van die 41 studente wat aktief aan die gesprekke deelgeneem het, het deel van die k-kern gevorm. Met ’n k-waarde van 10, het elkeen van hierdie studente binne die eerste ses maande meer as die vereiste getal klasmaats (6) geïdentifiseer wat hulle kon help om hulle leertake te voltooi. Daaruit kan afgelei word dat digtheid, anders as wat Toikkanen en Lipponen (2011) bevind het, wel ’n geskikte maatstaf bied om die doeltreffendheid van die saamleergeleenthede te beoordeel.

Volgens Liu e.a. (2017) is die akademies-swakker studente die aktiefste, daarom sou daar voorspel kon word dat die akademies-swakker studente in die kern verweef sou wees. Sosiale-netwerk-analiste is egter van mening dat die kenners in die kern van ’n sosiale netwerk verweef lê (Moreno 1934; Freeman 2004). Daarom word die finale resultate van die klas gebruik om die studente se netwerkposisies met hulle latere akademiese sukses te vergelyk (tabel 4).

Tabel 4. Netwerkposisie van die druipelinge en onderskeidingskandidate

Anders as wat Liu e.a. (2017) bevind het, was 11 van die 13 onderskeidingskandidate deel van die k-kern, wat daarop dui dat die kenners die aktiefste tydens die gesprekke van die KBG’s was (tabel 4). Vanuit hierdie netwerkposisies kon hulle maklik toegang tot tasbare en nietasbare hulpbronne verkry om akademies te presteer. Die netwerkposisies van die twee ander onderskeidingskandidate kan vanuit ’n koöperatiewe perspektief op leer verklaar word.

K6 het aan die rand van die geheelontwikkelingsnetwerk gefunksioneer. Dit kan daarop dui dat hy ’n wedywerende leerder was omdat hy van verskeie studente se hulp, ondersteuning en motivering gebruik gemaak het, sonder om self hulp, ondersteuning of motivering aan te bied – al het hy oor die nodige kennis beskik. E5 was moontlik ’n individualistiese leerder omdat sy oor die nodige kennis beskik het, maar nie aan die gesprekke deelgeneem het nie. Geen besliste verband kan egter tussen netwerkposisies en uitstaande akademiese sukses bevestig word nie omdat die KBG-tegniek vroegtydig gestaak is. Verdere navorsing behoort gedoen te word om so ’n verband te ondersoek.

Liu e.a. (2017) se bevinding dat die akademies-swakker leerders aktiewer in ’n aanlyn omgewing was, kon nie bevestig word nie. Hierdie teenstellende bevinding kan te wyte wees aan die gebruik van netwerkdata wat deur leerbestuurstelsels geskep word. Die data moet verder ontleed word sodat slegs die verhoudinge waarop die navorser fokus geïdentifiseer word. Ek het gevind dat die swakste kandidate wel baie aktief kan wees sonder om enige verhoudinge te bou wat tot die vestiging van ’n KBG bydra. Sodanige interaksies behoort nie gebruik te word nie.

Die huidige studie toon dat die akademies-sterk kandidate by die meeste verhoudings betrokke was. Slegs een van die sewe druipelinge het deel van die k-kern gevorm, drie het nooit aan gesprekke deelgeneem nie en drie het slegs enkele verhoudinge gevorm. Die drie wat enkele verhoudinge gebou het, het aan die rand van die geheelontwikkelingsnetwerk gefunksioneer (tabel 4, figuur 6), vanwaar hulle toegang tot die regte menslike hulpbronne wat hulle kon help, motiveer en ondersteun bemoeilik is. Die sewende druipeling (C5), wat deel van die k-kern (tabel 4) gevorm het, is genader om te verstaan waarom hy gedruip het. Volgens C5 het hy ’n onvolledige e-portefeulje ingedien omdat hy by ’n nuwe werk begin het, maar hy het die volgende jaar weer ingeskryf en geslaag.

Gebaseer op hierdie besprekings, kan afgelei word dat sosiogramme, soos Saqr en Alamro (2019) ook bevind het, ’n praktiese metode bied om die doeltreffendheid van saamleergeleenthede op ’n betroubare manier te ondersoek. Daarmee word die bevindinge van verskeie ander studies bevestig, naamlik dat sosiogramme gebruik kan word om aannames oor verhoudinge in groepe te ondersoek (Moreno 1934; Freeman 2004; Philip 2010; Van Staden 2012; 2016b).

Een van die beperkings van hierdie studie was dat die sosiogramme nie aan die studente beskikbaar gestel is nie. Daar word aanbeveel dat sosiogramme in opvolgstudies aan die studente beskikbaar gestel word omdat dit (volgens Molina e.a. 2014) ’n manier bied om strukturele eienskappe op ’n eenvoudige manier aan deelnemers oor te dra. Die studente kan die sosiogramme gebruik om oor die doeltreffendheid van hulle netwerk- en koöperatiewe leervaardighede te besin.

 

8. Implikasies vir die praktyk

Wanneer ’n saamleertegniek soos die KBG-tegniek in die praktyk toegepas word, behoort die doel nie te wees om die tegniek rigied toe te pas nie, maar eerder om die ontwikkeling van saamleervaardighede in groepsverband te fasiliteer. Met ’n fokus op die ontwikkeling van saamleervaardighede, kon die studente toegelaat word om hulle nuwe vaardighede ook in ander kontekste toe te pas. Dit het daartoe bygedra dat die aktiewe lede van die klas hulself in ’n geheelontwikkelingsnetwerk verweef het wat tot akademiese sukses kon bydra as hulle hulp, ondersteuning en motivering van klasmaats ontvang.

Ek beveel dus aan dat studente toegelaat word om aan die besprekings van ander KBG’s ook deel te neem omdat dit hulle van geleenthede voorsien om die regte menslike hulpbronne in klasverband te identifiseer. Verskeie van die studente – insluitend een van die onderskeidingskandidate – het spesifiek genoem dat hulle sou uitval as dit nie vir die saamleergeleentheid was nie. ’n Moontlike verband tussen die KBG-tegniek en uitstaande akademiese prestasie is uitgewys, maar kan nie bevestig word nie omdat die tegniek vroegtydig gestaak is.

 

9. Slot

Die COVID-19-pandemie, wat sedert Maart 2020 veroorsaak het dat kontakonderwys wêreldwyd na aanlyn onderwys moes oorskakel, plaas die fokus op die doeltreffendheid waarop leer en koöperatiewe leer in aanlyn omgewings gefasiliteer en geëvalueer word. Volgens Buchs e.a. (2017) neig onderwysers in kontakomgewings om nie koöperatiewe leer te fasiliteer nie omdat hulle van mening is dat hierdie vorm van leer tydrowend is en ook nie maklik geëvalueer kan word nie. Beide hierdie probleme kan egter doeltreffend oorkom word indien tegnologie gebruik word om koöperatiewe leer te bevorder.

Die vorige studie het getoon dat studente in staat is om ’n aanlyn leeromgewing vir onderwysers doeltreffend te gebruik om KBG’s te vestig en dat sosiale-netwerk-analise ’n doeltreffende metode bied om die ontwikkeling van positiewe interafhanklikheid in die KBG’s te ondersoek. ’n Onverwagte uitkoms was dat studente ook aan die gesprekke van ander KBG’s deelgeneem het en só hulle verhoudinge oor die grense van hulle KBG’s uitgebrei het. Daar is vermoed dat positiewe interafhanklikheid ook op klasvlak kon ontwikkel, maar die vermoede is nie verder ondersoek nie.

Die doel van die huidige navorsing was om die ontwikkeling van positiewe interafhanklikheid tydens die vestiging van KBG’s in ’n aanlyn leeromgewing op klasvlak te ondersoek. Die netwerkdata – of data oor die verhoudinge wat geskep is terwyl die studente mekaar gehelp, ondersteun en gemotiveer het – wat vir die doel van die vorige studie ingesamel is, is vir die doel van hierdie studie saamgevoeg om ’n sosiogram van die klaswye geheelontwikkelingsnetwerk te skep. Tydens die ontleding van die sosiogram is bevind dat ’n ongefragmenteerde geheelontwikkelingsnetwerk gevorm het aangesien elke aktiewe student met ten minste een verbinding met die geheelontwikkelingsnetwerk verweef was. Nadat die verbindings met die skryfster verwyder is, het een student verwyderd geraak, wat daarop dui dat die studente ook op klasvlak positief interafhanklik was.

’n Belangrike bevinding is dat ’n diggeweefde k-kern – bestaande uit 20 studente – gevorm het. ’n Vergelyking van die studente se netwerkposisies en hulle finale punte het getoon dat 11 van die 13 onderskeidingskandidate deel van hierdie k-kern gevorm het. Daarmee kon Liu, Chen en Tai (2017) se bevinding dat die swakste kandidate die aktiefste in ’n aanlyn omgewing is, nie bevestig word nie. Daar is egter, soos Brewer en Klein (2006) ook bevind het, ’n korrelasie tussen aktiewer deelname en beter prestasie gevind. Hierdie korrelasie bevestig aannames van netwerkteorie, naamlik dat die kenners in die kern van sosiale netwerke aangetref word.

Daar kan bevestig word dat sosiale-netwerk-analise ’n doeltreffende metode bied om die ontwikkeling van positiewe interafhanklikheid op klasvlak te ondersoek. Dit is ’n belangrike bevinding omdat die meeste navorsers op die ontwikkeling van positiewe interafhanklikheid in klein groepe fokus, sonder om in ag te neem dat studente die nuwe vaardighede ook in ander kontekste kan toepas. Gevolglik word die ontwikkeling van positiewe interafhanklikheid op klasvlak ook selde ondersoek.

 

Bibliografie

Avella, J. T., M. Kebritchi, S. Nunn en T. Kavai. 2016. Learning analytics methods, benefits, and challenges in higher education: A systematic literature review. Online Learning Journal, 20(2):1–17.

Borgatti, S., M. Everett en L. Freeman. 2002. Ucinet for Windows: Software for social network analysis. Harvard: Analytic Technologies.

Bewer, S. en J. Klein. 2006. Type of positive interdependence and affiliation motive in an asynchronous, collaborative learning environment. Educational Technology Research and Development, 54:331–54.

Buchs, C., D. Filippou, C. Pulfrey en Y. Volpé. 2017. Challenges for cooperative learning implementation: Reports from elementary school teachers. Journal of Education for Teaching, 43(3):296–306.

Cela, K. L., M.A. Sicillia en S. Sanchez. 2015. Social Network Analysis in e-learning environments: A preliminary systemic review. Educational Psychology Review, 27:219–46.

Cerezo, R., M. Sánchez-Santillán, M. Puerto Paule-Ruiz en C. Núñez. 2016. Students’ LMS interaction patterns and their relationship with achievement: A case study in higher education. Computers and Education, 96:42–54.

Chu, K.-H., H. Wipfli en T.W. Valente. 2014. Using visualizations to explore network dynamics. Journal of Social Structure, 14:1–24.

Creswell, J. en V. Plano Clark. 2007. Designing and conducting mixed methods research. Thousand Oaks: SAGE.

Cross, A. en R. Parker. 2004. The hidden power of social networks: Understanding how work really gets done in organizations. Boston, MA: Harvard Business School Press.

Diver, A. (red.). 2019. Employable scholars in Higher Education: Challenges and choices in times of austerity. Geneve: Springer.

Dominguez, S. en B. Hollstein. (reds). 2014. Mixed methods social networks research: Design and applications. New York: Cambridge University Press.

Fransen, J., A. Weinberger en P.A. Kirschner. 2013. Team effectiveness and team development in CSCL. Educational Psychologist, 48(1):9–24.

Freeman, L. 2004. The development of Social Network Analysis: A study in the Sociology of Science. Vancouver: Empirical Press.

Goodyear, P., S. Banks, V. Hodgson en D. McConnel (reds.) 2006. Advances in research on networked learning. New York, NY: Kluwer Academic Press.

—. 2006. Research on networked learning: An overview. In Goodyear, Banks, Hodgson en McConnel (reds.) 2006.

Haya, P.A., O. Daems, N. Malzahn, J. Castellanos en H. Ulrich. 2015. Analysing content and patterns of interaction for improving the learning design of networked learning environments. British Journal of Educational Technology, 46(2):300–16.

IBM Knowledge Center. 2017. K-Core. https://www.ibm.com/support/knowledgecenter/SS3J58_9.0.6/com.ibm.i2.anb.doc/about_k_core.html (2 Januarie 2020 geraadpleeg).

Jackson, D. en J. Temperley. 2006. From professional learning community to networked learning community. Referaat gelewer by die International Congress for School Effectiveness and Improvement (ICSEI). Fort Lauderdale: School Effectiveness and Improvement. (3–6 Januarie 2006).

Johnson, D.W. en F.P. Johnson. 2013. Joining together: Group theory and group skills. Boston: Pearson.

Johnson, D.W. en R.T. Johnson. 1994. Learning together and alone: Cooperative, competitive, and individualistic learning. Boston, MA: Allyn & Bacon.

Johnson, R.T., D.W. Johnson en E.J. Holubec. 2008. New Circles of learning: Cooperation in the classroom and school. Interaction Book Company: Edina, MN.

Liu, C. C., Y. Chen en S.D. Tai. 2017. A social network analysis on elementary student engagement in the networked creation community. Computers & Education, 115:114–25.

Lubbe, A. 2015. Cooperative base groups in Higher Education: The impact on Life Sciences students’ self-directed learning readiness. MEd-verhandeling, Noordwes-Universiteit.

Molina, J. L., I. Maya-Jariego en C. McCarthy. 2014. Giving meaning to social networks: Methodology for conducting and analyzing interviews based on personal network visualizations. In Dominguez en Hollstein (reds.) 2014.

Moreno, J.L. 1934. Who shall survive? A new approach to the problem of human interrelatedness. Washington: Nervous and Mental Disease Publishing Company.

Nam, C. en R. Zellner. 2011. The relative effects of positive interdependence and group processing on student achievement and attitude in online cooperative learning. Computers & Education, 56(3):680–8.

Philip, D. 2010. Social Network Analysis to examine interaction patterns in knowledge building communities. Canadian Journal of Learning and Technology, 36(1):1–20.

Robins, G. 2015. Doing Social Network Research. Thousand Oaks: Sage.

Ryymin, E., T. Palonen en K. Hakkarainen. 2008. Networking relations of using ICT within a teacher community. Computers & Education, 51(3):1264–82.

Saqr, M. en A. Alamro. 2019. The role of social network analysis as a learning analytics tool in online problem based learning. BMC Medical Education, 19(1). https://doi.org/10.1186/s12909-019-1599-6 (3 April 2020 geraadpleeg).

Senekal, B. 2013. Die gebruik van netwerkteorie binne ’n sisteemteoretiese benadering tot die Afrikaanse letterkunde: ’n Teorie-oorsig. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 53(4):668–82.

Suid-Afrikaanse Kwalifikasieraad. 1997. Proceedings and decisions of SAQA, SAQA Bulletin, 1(1):5–10.

Van Staden, C.J. 2012. Sosiale Netwerk Analise as metode om die deurlopende professionele ontwikkeling van die wiskunde-onderwysers van ’n sekondêre skool in Gauteng te moniteer. PhD-proefskrif, Universiteit van Johannesburg.

—. 2016a. A learning-oriented framework for integrating eportfolios in a post-graduate module in distance education. AAEEBL ePortfolio Review, 1(1):36–53.

—. 2016b. Ontleding van sosiogramme as metode om die doeltreffendheid van genetwerkte leer in ’n skoolgebaseerde wiskundevakgroep te ondersoek. LitNet Akademies, 13(3):672–718.

—. 2018. WhatsApp? Die ontwikkeling van ’n positief-interafhanklike e-praktyknetwerk tydens die samestelling van e-portefeuljes in afstandhoëronderwys. LitNet Akademies, 15(2):350–96.

—. 2019a. ’n Netwerkperspektief op die gebruik van koöperatiewe basisgroepe as tegniek om samewerking tydens afstandhoëronderwys te bevorder. LitNet Akademies, 16(1):421–72.

—. 2019b. Using an e-portfolio to demonstrate graduate-ness and employability. In Diver (red.) 2019.

Van Staden, C.J. en D. Van der Westhuizen. 2013. Learn 2.0 technologies and the continuing professional development of secondary school Mathematics teachers. Journal for New Generation Sciences. 11(2):241–57.

Toikkanen, T. en L. Lipponen. 2011. The applicability of social network analysis to the study of networked learning. Interactive Learning Environments, 19(4):365–79.

Xie, K., C. Yu en A.C. Bradshaw. 2014. Impacts of role assignment and participation in asynchronous discussions in college-level online classes. Internet and Higher Education, 20:10–4.

 

Eindnotas

1 Van Staden, C.J. 2019. ’n Netwerkperspektief op die gebruik van koöperatiewe basisgroepe as tegniek om samewerking tydens afstandhoëronderwys te bevorder. LitNet Akademies, 16(1):584–622.

2 Die k-kernmaatstaf.

3 Van Staden, C.J. 2019. ’n Netwerkperspektief op die gebruik van koöperatiewe basisgroepe as tegniek om samewerking tydens afstandhoëronderwys te bevorder. LitNet Akademies, 16(1):584–622.

4 Beskikbaar by https://arend.co, besig om na ’n nuwe webwerf geskuif te word.

5 ’n Spesiale soort sosiale netwerk wat uit die verhoudinge bestaan wat geskep is om mekaar te help, ondersteun en motiveer.

6 Die k-kernmaatstaf.

7 Die term ex post facto verwys na navorsing wat gedoen is sonder om vooraf die nodige toestemming te verkry om data in te samel.

8 Sagteware wat gebruik word om sosiale netwerke te ontleed.

9 Sagteware wat gebruik word om sosiale netwerke te visualiseer.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Die ontleding van sosiogramme om die impak van koöperatiewe basisgroepe op positiewe interafhanklikheid in klasverband te ondersoek appeared first on LitNet.


Vergestaltings van trauma in Suspiria (1977) deur Dario Argento

$
0
0

Vergestaltings van trauma in Suspiria (1977) deur Dario Argento 

Cilliers van den Berg, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 17(3)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

In hierdie eerste van twee bydraes word Dominick LaCapra se onderskeid tussen strukturele en historiese trauma as basis gebruik vir die duiding van trauma as belangrike benaderingswyse binne filmstudies. Waar strukturele trauma volgens hom as ontologiese gegewe geld, fokus historiese trauma op die spesifieke ervaring van ’n unieke historiese gebeurtenis. Begripspare soos verlies en leemte en verwerking en performatiewe uitspeel van traumasimptomatologie word voorts deur hom met die onderskeidende konseptualisering van trauma in verband gebring. Strukturele trauma kan nie direk daargestel of verbeeld word nie, maar word eerder indirek geïmpliseer deur die kennisname van die voorlopigheid van enige visuele en/of narratiewe betekenisskepping. In ooreenstemming met poststrukturalistiese veronderstellings kan betekenis nie bestendig word nie, aangesien strukturele trauma die losse skroewe van representasie as sodanig onderskryf. In hierdie bydrae word die grufilm van die Italiaanse regisseur Dario Argento, getiteld Suspiria (1977), as ’n filmiese vergestalting van strukturele trauma ontleed. Gesien as ’n film wat narratiwiteit ten gunste van eksperimentering met helder, primêre kleure en ’n ikoniese klankbaan laat links lê, is die film bekend vir die onoortuigende diëgetiese wêrelde wat dit die kyker bied, deurdat die gebruik van verskeie elemente in die film moeilik diëgeties of simbolies gemotiveer kan word. Die kyker word telkens weer bewus van die film as film, hetsy dit toe te skryf is aan ’n diëgetiese surplus, wat telkens ’n metavlak veronderstel wat die oormaat aan betekenis kan absorbeer, of die ondermyning van narratiwiteit ten gunste van ’n affektiewe filmervaring behels. Hierdie verskuiwing van diëgetiese na niediëgetiese na ekstradiëgetiese vlakke ter wille van die ankering van betekenis (“suturing” of herverseëling) impliseer die tekortkominge van narratiwiteit en ook ’n strukturele afwesigheid wat nie met woord of beeld geseël kan word nie. In soverre verteenwoordig Suspiria (1977) nie ’n tematisering van ’n historiese trauma nie, maar eerder ’n performatiewe uitspeel van strukturele trauma.

Trefwoorde: Dario Argento; diëgese; grufilms; historiese trauma; Dominick LaCapra; strukturele trauma; Suspiria

 

Abstract 

Figurations of trauma in Dario Argento’s Suspiria (1977) 

In this first instalment of a two-part study the notions of structural and historical trauma are utilised as interpretative tools to illustrate the hermeneutic potential of historiographer and theorist Dominick LaCapra’s theoretical approach towards trauma within the discipline of film studies. LaCapra defines structural trauma as an ontological state of affairs that determines the existential nature of being human. It subscribes to the idea that being and existence are defined by an inherent lack that cannot be explained or even expressed through language and can therefore only be indicated in an indirect way by virtue of language (and all other forms of representation) performing its own limitations. Historical trauma, on the other hand, refers to unique historical events that can be contextualised in a very precise way in terms of historical dates and geographical location. Whereas the former adheres to poststructuralist perspectives on semiosis and the structures of language, the focus of the latter is on historical events and the attempts at their representation. Structural and historical trauma have a very complex relationship, in that they are interconnected, often related through the dynamics of lack (defined as being germane to structural trauma) and loss (defined as being germane to historical trauma), as well the dynamics of acting out (performing) and working through (coming to terms with) trauma.

In order to illustrate the difference between structural and historical trauma, two films are presented and analysed as being exemplifications of the respective definitions of trauma. In part one of the study the notion of structural trauma is used as an approach to analyse Suspiria (1977) by the Italian film director Dario Argento. Argento, one of the most famous European film directors working in the horror genre, began his career by creating gialli in the tradition of forebears like Mario Bava. With Suspiria he produced a film that not only established his reputation as an important director in the genre, but also became notable for its use of primary colours, the iconic soundtrack by the progressive rock band Goblin, and the stylistic presentations of graphic violence. The dominance of these elements in relation to the rather flimsy narrative of a “final girl” surviving the machinations of a coven of witches, in various ways subverts not only the integrity of the film’s diegetic levels, but also the plot and narratives that can be used to interpret the film.

The plot of Suspiria already presents different diegetic worlds, in that the mundane and ordinary existence of the everyday is contrasted with the world of the witches that the American protagonist Suzy Bannion experiences in a dance school in Freiburg, Germany. This contrast is related to two ways of looking at the world: Seeing wrongdoing as the result of “broken mirrors” (i.e. magic) or “broken minds” (i.e. human psychology). But the diegetic differences between these worlds are further complicated by non-diegetic elements such as the soundtrack and the use of Technicolor in the cinematography. These aspects of the film seem to have less of a narrative or symbolic function than simply being instrumental as stylistic devices for the spectacular visual and auditory set-pieces. The effect is that the emphasis seems to be on how these set-pieces are staged, with the result being not only the stylistic superficiality of the film, but even more so its pronounced diegetic artificiality. This is further accentuated by certain goofs in the film, such as exposed wires, when obvious sets are destroyed, or bad dubbing, when the dialogue evidently is not synchronised with the articulation of the actors. The viewer is therefore left with the impression that the boundaries between the various diegetic levels are permeable, but notwithstanding this that he or she would be able to “suture” these discrepancies by interpreting the film and its filmic mistakes from an extra-diegetic position. The different levels, from the diegetic to the non-diegetic to the extra-diegetic level of the suturing viewer, can be described as isomorphic repetitions or mise en abyme, whereas the movement between these levels is described by the literary theorist Gerard Genette as metalepsis (1980). Although suturing might seem to seal off the movement from lower to higher diegetic levels, the renouncement of suturing might imply that the extra-diegetic world of the viewer is as superficial as the diegetic world of the film.

This artificiality is further illustrated in the ways in which the film undermines narratives, not only in terms of diegetic narrative plot structures, but also in terms of the various narratives that might be used to read and interpret the film. This is underscored even more when the importance of the stylistic set-pieces is taken into account. The latter seem to be examples of what Tom Gunning (2006) would describe as “cinema of attractions”, but they also align with Sergei Eisenstein’s definition of this term with reference to graphic examples from grand guignol. The result is that the very function and relevance of narrativity are suspended, in that its limitations and superficiality are foregrounded. Whereas narratives normally have a suturing function, the fact that their failures and/or shortcomings become exposed could have the same effect as the metaleptic movement between the various diegetic levels. Both metalepsis and the exposure of narratives as being inherently limited and superficial have the potential to expose the shortcomings of the extra-diegetic context and world in which the viewer finds himself or herself. By implication the metalepsis cannot be sutured with meaning, even as the meaning in Suspiria as filmic text cannot be sutured. The result is a poststructuralist notion of meaning that cannot be sustained, which in part exposes the inherent structural failures of all modes of representation. In LaCapra’s conceptualisation of structural trauma these are the very features that come into play: insight into the precarious nature of the meaning(s) and modes humans use to deny, deflate and ignore the ontological gaps at the foundation of both their being and their sense of being. This is what LaCapra defines as paramount to structural trauma – and this is precisely what Argento, in a playful, but often very gruesome way, presents to the viewer of Suspiria. Historical trauma is notably absent from Argento’s version, but is taken up by Luca Guadagnino in the 2018 remake of the film.

Keywords: Dario Argento; diegesis; historical trauma; horror films; Dominick LaCapra; structural trauma; Suspiria

 

1. Inleiding 

I like films that are surprising and provocative, that take risks with their visual solutions, and that might be judged as the fruit of “bad taste”. I hate successful films that travel on an easy wave of “good taste”: for me, that is simply anti-culture. (Tovoli in Heller-Nicholas 2015, loc 1682)

In teenstelling met algemeen-aanvaarde opvattings rakende die afplat van traumateorie se tersaaklikheid binne die geesteswetenskappe verteenwoordig die teoretiese spektrum en heuristiese moontlikhede wat hierdie veld bied, vandag steeds ’n besonder genuanseerde wyse om krities en ontledend met tekste om te gaan. Dalk nie meer so populêr soos met die beginfases van die steeds ontwikkelende veld nie, bied meer onlangse, pluralistiese traumamodelle ’n verskeidenheid invalshoeke. Vanaf die poststrukturalistiese impetus tydens die 1990’s tot die meer onlangse fokus op historiese uniekheid1 kan traumateorie met groot vrug in kruisbestuiwing met verskeie ander benaderingswyses aangewend word, wat postkolonialisme, feministiese teorie, etniese studies en ekokritiek insluit (Balaev 2018:369, kyk ook Balaev 2014:1–11).2 Die pluralistiese modelle in ag genome, blyk die ekstreme eindpunte van die spektrum van invalshoeke betreklik konstant te wees. Enersyds is daar ’n fokus op ’n poststrukturalistiese (en/of Lacaniaans-geïnspireerde) opvatting van semiose, veral die struktuur (en veral grense) van taal en andersyds die uniekheid van die historiese parameters waarin trauma manifesteer, beleef, gekonseptualiseer en gemedieer word. Die doelstelling van hierdie bydrae is nie om die komplekse geskiedenis en reikwydte van traumateorie, nou vervleg met die teorie van kollektiewe geheue, te beskryf nie, maar eerder om die interpretasiemoontlikhede wat hierdie twee ekstreme eindpunte van die spektrum bied, kortliks te illustreer. Dominick LaCapra se onderskeid tussen strukturele en historiese trauma is egter steeds ’n seminale bydrae in hierdie verband.

Twee filmtekste word ter illustrasie van die verskillende vergestaltings van trauma aangebied, enersyds ’n beklemtoning van die strukturele aard van trauma en andersyds ’n beklemtoning van trauma as unieke, historiese gebeurtenis. Aangesien die besprekings van die films egter uitvoerige ontleding noodsaak, sal deel een van hierdie studie uitsluitlik op Suspiria (1977) van Dario Argento (as vergestalting van strukturele trauma) fokus, terwyl deel twee se fokus die herverfilming daarvan, naamlik Luca Guadagnino se Suspiria (2018) (as vergestalting van historiese trauma), betrek. Beide die resepsie van die film deur die regisseur se aanhangers en akademiese publikasies oor Suspiria het geruime tyd reeds lank kanonieke status binne die grufilmtradisie aan die film verleen, en daarom is die vrystelling van Guadagnino se weergawe met groot belangstelling afgewag. Onafhanklik van die estetiese waarde van die twee films blyk die verskillende wyses waarop trauma in die betrokke films verbeeld word, ’n produktiewe invalshoek vir die interpretasie daarvan te wees.

 

2. Historiese en strukturele trauma 

Hoewel die (meta-)historiograaf, teoretikus en spesialis op die gebied van intellektuele geskiedskrywing Dominick LaCapra reeds met die publikasie van Representing the Holocaust: History, theory, trauma in 1994 ’n seminale teks tot traumateorie bydra, distansieer hy hom vroeg reeds bewustelik van ander teoretici (o.a. Caruth) wie se werk hy as eksemplaries van ’n poststrukturalistiese posisie sien, aangesien dit op epistemologiese kwessies rakende die onrepresenteerbaarheid of numineuse aard van trauma gefikseer sou wees. In soverre slaan sy konseptualisering van laasgenoemde ’n brug na trauma gesien as enkele en unieke histories-gespesifiseerde gebeurtenis. Tog lei die sentraalstelling van die Holocaust in sy werk ook tot kritiek, as sou dit vernaam Eurosentries wees en sistemiese oorsake van historiese traumas nie genoegsaam verreken nie. Die goue draad in sy werk is ’n perspektief gefiltreer deur Freudiaanse psigoanalise, wat ten spyte van die noodwendige onbereikbaarheid van traumaverwerking tog ook ’n appèl op die historiese noodsaaklikheid daarvan rig. LaCapra (1998:47–8) identifiseer in verskeie van sy werke twee tipes trauma, waarvan ’n definisie hier uitvoerig aangehaal word:3

Another way […] is to argue for a problematic distinction between structural or existential trauma and historical trauma […]. One may argue that structural or existential trauma appears in different ways in all societies. It may be evoked or addressed in various fashions: in terms of the passage from nature to culture, the eruptions of the pre-Oedipal or pre-symbolic in the symbolic, the entry into language, the encounter with the Real, the inevitable generation of the aporia, and so forth. Structural trauma is often figured as deeply ambivalent, as both painfully shattering and the occasion for jouissance, ecstatic elation, or the sublime. Although one may contend that structural trauma is in some problematic sense its precondition, historical trauma is related to specific events, such as the Shoah or the dropping of the atom bomb on Japanese cities. It is deceptive to reduce, or transfer the qualities of, one dimension of trauma to the other, to generalize structural trauma so that it absorbs historical trauma, thereby rendering all references to the latter merely illustrative, homogenous, allusive, and perhaps equivocal, or, on the contrary, to “explain” all post-traumatic, extreme, uncanny phenomena and the responses as exclusively caused by particular events or contexts. Indeed the problem of specificity in analysis and criticism may be formulated in terms of the need to explore the problematic relations between structural and historical trauma without reducing one to the other.

Hoewel hy in sy teoretiese opvattings baie krities jeens sekere aspekte en uitlopers van die poststrukturalistiese tradisie staan4 – veral waar dit by die teoretisering van trauma kom – is die invloed daarvan baie duidelik in sy konseptualisering van strukturele trauma merkbaar. Sy definisie suggereer onder meer (en wys blatant op) die grense van taal se uitdrukkingsvermoë, deur onder meer na die Lacaniaanse Reële te verwys. Wanneer die pre-Simboliese, of dan in hierdie geval die Reële, inbreuk maak op die Simboliese in die vorm van ’n onrepresenteerbare teenwoordigheid en/of afwesigheid, kom die beperkinge of leemtes van die Simboliese orde, dus van taal, narratiwiteit en die koördinate van oriënterende verwysingswêrelde en ideologiese strukture, duidelik uit die verf.5 In die suiwerste vorm daarvan (wat egter nooit kan manifesteer nie) verteenwoordig hierdie tipe trauma dus nié die lukrake, maar wel gespesifiseerde oorsaak van posttraumatiese stresversteuring nie, maar is ’n ontologiese gegewe wat almal, beide individue en kollektiewe groeperinge, tot slagoffers stempel (kyk ook LaCapra 2001:77, 79, 82). Dit kan dus as ’n toestand van eksistensiële geworpenheid beskryf word wat versluier word deur illusies van singewing en ’n vertroue in die ankering van betekenis, maar veral geaktiveer word tydens oomblikke van bewuswording dat die ankers wel drywende boeie van onsekerheid blyk te wees. Só gesien is ’n dader dus noodwendig as oorsaaklike kapstok afwesig en kan dit alleenlik deur middel van transferensie tot (valse) historiese vergestalting in die lewe geroep word. Indien die ware aard van hierdie trauma enigsins vasstelbaar is, is dit alleenlik sydelings waarneembaar deur die bewuswording van die grense en leemtes, en dus die toevalligheid, terloopsheid en gemanipuleerde gestruktureerdheid van die sinvolle wêrelde wat deur individue en groepe geskep word en dikwels deur middel van tradisies histories oorgedra word.

Historiese trauma is veel makliker om te beskryf, deurdat dit na spesifieke, historiese gebeurtenisse verwys wat weens die psigologiese impak daarvan op beide individue en groepe ’n diagnoseerbare merk laat (kyk bv. LaCapra 2001:78–80).6 LaCapra onderskei ook twee verdere begripspare wat ’n sinvolle, teoretiese omgaan met die komplekse onderskeiding van die traumaverskynsel moontlik maak: leemte en verlies, en die verwerking en performatiewe uitspeel (“acting out”) van trauma. Hoewel die werkinge van die drie begripspare (dus insluitende historiese en strukturele trauma) wel ooreenkomste met mekaar vertoon, is hierdie ooreenkomste grootliks isomorfies van aard, dit wil sê hulle vertoon oënskynlike gemeenskaplikhede sonder dat dit inherent aan mekaar gelykgestel kan word. Weliswaar belig die drie pare mekaar deur mekaar wedersyds te impliseer. Twee van die begripspare is egter wél nou met mekaar vervleg, naamlik historiese en strukturele trauma, en leemte en verlies (“absence-loss”).7 LaCapra (2001:48–9) verduidelik dat leemte (of afwesigheid) transhistories en tydloos is (en sodoende nie beperk is tot unieke, historiese gebeure nie) en sigself teen enige vorm van historiese “narrativering” weer. Wat nie geken kan word nie, maar vanaf die begin afwesig was, kan nie teruggevind word, of trouens selfs beskryf word nie. Daarteenoor verwys verlies na die spesifisiteit van geskiedenis, waar dít wat verlore gegaan het, in tyd en plek lokaliseerbaar is (2001:48). Die kenbaarheid van verlies kan ook deur middel van historiese narratiewe aangedui word (49). Sodoende kan afwesigheid en verlies met redelike geldigheid op strukturele en historiese trauma gekarteer word. 

Die subjek se reaksie op verlies en leemte neem verskeie vorme aan en kan losweg met die derde begripspaar in verband gebring word, naamlik traumaverwerking en die performatiewe uitspeel van traumasimptomatologie. LaCapra keer hier terug na Freud deur na sy Trauer und Melancholie (1917) te verwys. Verwerking “brings the possibility of engaging trauma and achieving a reinvestment in [...] life” (LaCapra 2001:66), terwyl die performatiewe uitspeel van traumasimptomatologie die volgende teweeg bring: ’n “arrested process in which the depressed, self-berating, and traumatized self, locked in compulsive repetition, is possessed by the past, faces a future of impasses, and remains narcissistically identified with the lost object”. Duidelik sou strukturele trauma, aangesien dit na afwesigheid of ontologiese leemtes verwys, in die ware sin van die woord nie verwerk kon word nie, waarteenoor dit in die geval van historiese trauma altyd die terapeutiese ideaal bly. Aangesien hierdie studie in die eerste instansie op die begripspaar historiese en strukturele trauma fokus, val dit buite die bestek hiervan om die komplekse interaksie tussen die drie begripspare uitvoerig daar te stel. LaCapra stel dit baie duidelik dat die begripspare onderling en ook in interaksie met mekaar ’n uiters komplekse dinamika veronderstel, wat voorts dan ook in talle werke deur hom ondersoek word. Die ontleding van Argento se Suspiria fokus egter op die vergestalting van strukturele trauma sonder om verder uitvoerig na verwerking of “acting out” te verwys. In deel twee van hierdie studie sal die (etiese) gevare van die gelykstel van afwesigheid en verlies en historiese en strukturele trauma verder ondersoek word.

 

3. Suspiria (1977), Dario Argento

Min sou Thomas de Quincey kon vermoed het dat sy poëtiese beskrywing van Mater Suspiriorum, ofte wel Our Lady of Sighs, in Suspiria de profundis (1845), die opvolg tot sy Confessions of an English opium-eater (1821), in die daaropvolgende eeu as toevallige inspirasie sou dien vir die skep van een van dié seminale films in die Italiaanse grufilmtradisie, naamlik Suspiria (1977) deur Dario Argento (1940–).8 Argento, wat op daardie stadium die vernaamste eksponent van die Italiaanse giallo-genre was,9 het met Suspiria ’n ooglopende stroomverlegging in die trajek van sy ontwikkelende filmoeuvre bewerkstellig (kyk ook Giusti 2013:154). Oorspronklik aktief as filmkritikus en draaiboekskrywer,10 verwerf hy as regisseur bekendheid met vier gialli: L’uccello dale piume di cristallo (The bird with the crystal plumage, 1970), Il gatto a nove code (The cat o’ nine tails, 1971), 4 mosche di velluto grigio (Four flies on grey velvet, 1971) en Profondo rosso (Deep red, 1975).11 In Suspiria betrek hy egter vir die eerste keer “bonatuurlike” elemente, hoewel die “whodunnit”-struktuur wat sy gialli (en die genre as sodanig) gekenmerk het, steeds ten grondslag van die film se narratiewe spanningslyn lê. Per implikasie verteenwoordig Suspiria dus ’n kombinasie van giallo- en bonatuurlike gru-elemente wat origens, en veral in ooreenstemming met die narratiewe konstruksie van sy vorige films, tematies inspeel op die problematiek rondom die beperktheid van die individu se subjektief-bepaalde geheue. Hieronder geld veral die herinneringe van getuies aan kritieke gebeure, wat uiteindelik ’n sleutel blyk te wees vir die verstaan van die betrokke narratief se ontknoping.12 

Buiten die giallo-tradisie kan verskeie invloede in Suspiria geïdentifiseer word, met Argento wat ook self op verskillende elemente dui wat as inspirasie vir sy film sou gedien het. Hieronder geld onder meer die duidelike invloed van Duitse ekspressionisme, veral wat die gebruik van kleur en mise en scène betref (Giusti 2013:154, 156; Brown 2012:10; McDonagh 2010:99; Curti 2017:182). Die geskikste beskrywing van die film is egter om daarna as ’n moderne sprokie te verwys. Buiten die unieke atmosfeer wat deur kleur en klank geskep word, en die “voice-over”, ofte wel niediëgetiese verteller, waarmee die film as vertelling ingelei word,13 dui verskeie ander motiewe op verhaalvlak op die juistheid van so ’n tipering. Die aanwesigheid van hekse as vernaamste antagoniste, die aseksuele, kinderlike en dikwels bykans naïewe gedrag van menige van die karakters14 en die prototipiese karakterontwikkeling van die hoofkarakter, Suzy Bannion, strook naatloos met verskeie trope uit die sprokieskat (kyk bv. Firsching 1997, Schulte-Sasse 2002, Cooper 2012:77, McDonagh 2010:99, Curti 2017:181, Heller-Nicholas 2015, loc 575, 1149). McDonagh (2010:100) gaan selfs so ver as om daarop te wys dat Propp se strukturalistiese tipering van sprokies ook op die struktuur en tipologiese funksies van Suspiria se narratief van toepassing is. Daarbenewens speel die film grootliks in Freiburg in die Duitse Schwarzwald af – wat noodgedwonge die konnotasie met die Romantiese (sprokies)wêreld van die Grimm-broers aktiveer. Die belangrikste invloed was egter Walt Disney se 1937-animasiefilm Snow White and the seven dwarfs – nie net wat die narratief betref nie, maar veral wat betref die gebruik van kleur as stilistiese middel (wat hier onder bespreek word) (kyk Heller-Nicholas 2015, loc 584). Die onsekere geografiese lokalisering wat ’n sprokiesgegewe dikwels veronderstel, sou volgens Curti (2017:182) deels toe te skryf wees aan Argento se toenemende distansiëring van die politiek van die dag, veral wat betref die potensiële geweld wat terrorisme meegebring het.15 Anders as die stilistiese en generiese merkers skyn die spesifisiteit van hierdie en ander historiese kwelpunte afwesig te wees in Argento se moderne sprokie oor maagdelike heldinne en bose hekse. Dit is ’n verhaal wat dit onder meer ten doel stel om terug te keer na die oorspronklike weergawes van sprokies, waar geweld in grafiese besonderhede verbeeld word – en nie die gesaneerde weergawes daarvan wat sedertdien in die populêre kultuurskat gekanoniseer is nie.

3.1 Verhaalgegewe 

Suspiria vertel die verhaal van ’n Amerikaanse ballerina, Suzy Bannion, wat in Duitsland arriveer om onderrig aan die bekende Freiburg Tanzakademie te ontvang. Met haar aankoms te midde van stormagtige weer onderneem sy ’n onverkwiklike taxirit en arriveer by die akademie, waar sy ’n onthutsende ervaring het: ’n Meisie, wat later die danseres Pat blyk te wees, skyn angsbevange van die akademiegebou te vlug. Suzy hoor flardes van die gesprek wat Pat met iemand by ontvangs voer, maar Pat hardloop weg, terwyl Suzy toegang tot die gebou geweier word. Intussen vlug Pat na die tuiste van ’n medestudent wat in die stad woon, waar sy op brutale, dog moeilik verklaarbare wyse vermoor word. Suzy keer die volgende oggend na die Tanzakademie terug, waar sy deur Miss Tanner en Madame Blanc ontvang word. Sy maak met ’n medestudent, Sara, kennis, met wie sy mettertyd ’n vriendskap sluit. Onderweg na ’n eerste danssessie is daar ’n onverklaarbare insident wanneer sy verby Albert, die kleinneef van Madame Blanc, en een van die huismoeders stap: Sy skyn eensklaps op magiese wyse onder die invloed van ’n disoriënterende mag te kom en verloor vervolgens ook haar bewussyn tydens die oefensessie. Teen haar wil moet sy nou haar permanente intrek in die koshuis neem, in die kamer langs dié van Sara, asook ’n spesiale dieet volg. Nadat ’n nes maaiers een aand op Suzy se koshuisvloer ontdek word, word die koshuisgangers na ’n oefensaal geneem om daar te oornag. ’n Onbekende persoon slaap eweneens daar, wat vervolgens deur Sara as die hoof van die skool, Helena Markos, geïdentifiseer word.

By ’n volgende geleentheid word Daniel (die blinde pianis en begeleier van die skool) ontslaan (aangesien sy gidshond vir Albert sou gebyt het), en word dieselfde aand op onverklaarbare wyse deur sy eie hond verskeur. Te midde van die onsekerheid oor al hierdie gebeure bieg Sara aan Suzy dat sy die aand met laasgenoemde se aankoms die persoon was met wie Pat in gesprek was. Pat het vermoedens gehad oor onnatuurlike, selfs bonatuurlike gebeure by die akademie en ook hieroor notas gemaak. Terwyl Suzy aan die slaap raak of haar bewussyn verloor, noem sy dat die akademie se instrukteurs nie die perseel aan die einde van die werksdag verlaat nie – dit is duidelik indien geluister word na die rigting van hulle voetstappe. Sara word vervolgens bewus van ’n indringer in haar kamer en vlug dieper die gebou in, maar word na ’n dramatiese vervolging op grafiese wyse vermoor.

Met Suzy se ontwaking die volgende oggend is Sara skoonveld, met Madame Blanc wat beweer dat Sara die akademie inderhaas verlaat het. Suzy vermoed onraad en kontak ’n psigiatervriend van Sara, Frank Mandel. Mandel en ’n kollega, professor Milius, vertel Suzy van die beweerde geskiedenis van die akademie: Dit sou voorheen ook ’n skool van die okkulte gewees het onder leiding van die bekende heks, Helena Markos, maar na haar dood het die skool uitsluitlik ’n instansie vir dansonderrig geword. Mandel is baie pertinent oor die feit dat hy hierdie relaas as onsin beskou en sê: “[T]he current spread of belief in magic and the occult is part of mental illness; bad luck isn't brought by broken mirrors, but by broken minds”, waarteenoor Milius beweer: “Skepticism is the natural reaction of people nowadays, but magic is ever present […] magic is everywhere, and all over the world, it’s a recognized fact, always.”

Met haar terugkeer na die akademie blyk Suzy se medestudente nie daar te wees nie en sy onderneem om terstond die geheime van die Tanzakademie te ontmasker. Sy volg Pat se notas om die roete van die onderwysers deur die gebou te rekonstrueer – ’n roete wat lei na die kantoor van Madame Blanc. Hier verstaan sy oplaas Pat se verwysings na “geheime”, “drie irisse op die deur” en die “blou een wat gedraai moet word” – die flardes van die gesprek wat sy terloops met haar aankoms die eerste aand gehoor het. Sy draai die blou iris, ’n geheime deur word geopen en met nadere ondersoek in die versteekte ruimtes van die Tanzakademie bevestig Suzy dat Madame Blanc en haar kollegas wel ’n bose heksekolonie verteenwoordig – wat boonop beplan om haar “te laat verdwyn”. Tydens ’n konfrontasie met Helena Markos, wat skynbaar die heeltyd in die akademie aanwesig was, is Suzy in staat om hierdie leier van die hekse dood te maak, waarna die hele skool, as skynbare beliggaming van die bose,16 outomaties vernietig word. Suzy ontsnap en verlaat die akademie met ’n glimlag op haar gesig. 

Die verhaalgegewe van Suspiria is in nabetragting, en veral met die voltooiing van Argento se The three mothers-trilogie, in ’n veel groter narratief ingebed. Gesentreer rondom drie hekse, lewer Inferno (met New York as basis) en The third mother (met Rome as basis) ’n verruimende blik op die gebeure van Suspiria: Waar Inferno veral die bestaan en magsbasis van die heksedriemanskap toelig, kontekstualiseer The third mother die spesifieke gebeure van Suspiria, veral Suzy se onverwagte oorwinning oor die magtige Helena Markos. Wat dus in Suspiria enigmaties bly, of selfs as narratiewe leemtes sou kon geld, word in gesprek met die teenhangers van die trilogie deur uitvoerige eksposisie aangevul, waardeur enige onsekerhede uit die weg geruim word. Aangesien Suspiria verder in hierdie betoog in isolasie bespreek word (veral met inagneming van die herverfilming daarvan), word hierdie addisionele inligting egter nie in die onderhawige ontleding betrek nie.17 

3.2 Diëgetiese vlakke in Suspiria

Uit bostaande opsomming van Suspiria se fabula is dit duidelik dat daar binne die diëgetiese ruimte van die film merkers is wat onderskeidelik na meer as een fiktiewe wêreld verwys. Indien egter verder ook die ekstradiëgetiese aspekte van die film in die interpretasie daarvan betrek word, word dit ooglopend dat die potensiële betekenis wat die verskuiwing van fokus tussen diëgetiese, niediëgetiese en ekstradiëgetiese vlakke inhou,18 as teenhanger sou kon dien vir dít wat die film aan (oortuigende) narratiewe kompleksiteit en betekenis inboet. In isolasie (dit is wat betref die diëgese) is die storielyn van Suspiria immers betreklik dun en die film vergoed hiervoor deur die skep van betekenis via die geïmpliseerde metarefleksie oor film as medium – iets waardeur voorts ook die kyker se betrokkenheid by die film-as-konstruk betrek word.

Op diëgetiese vlak is die openingstonele van die film sprekend van twee kontrasterende ervaringswêrelde wat met die verloop van die handeling telkens weer binêr teenoor mekaar opgestel word: die alledaagse wêreld van rasioneel verklaarbare gebeure en handeling, en die magiese en bonatuurlike wêreld van heksery en die irrasionele. Hierdie wêrelde vervloei nie soos in magies realistiese ruimtes met mekaar nie, maar bestaan eerder naas mekaar.19

Na die simplistiese openingstitels (wit op ’n swart agtergrond), wat met begeleiding van die dramatiese Goblin-klankbaan verskyn, en gevolg deur die “voice-over” (wat die presiese konteks van Suzy se reis na Duitsland meedeel), is die eerste toneel ’n blik op een van die lughawe se aankoms-en-vertrek-inligtingskerms. Die bedoeling is duidelik: Die lughawe is letterlik ’n veilige hawe geanker in die presiese koördinate van tyd en plek, wat duidelik kontrasteer met die “ongeordende” wêreld anderkant die skuifdeure van die lughaweterminaal se uitgang (kyk Schulte-Sasse 2002, Heller-Nicholas 2015, loc 804). Soos wat Suzy al nader aan die uitgang beweeg, word die kyker trouens bewus van die hewige storm wat buite heers – iets wat benadruk word deur die onheilspellende klankbaan wat hoorbaar word net wanneer die deure oopskuif. Daarbenewens dui ook die moeilik verstaanbare miskommunikasie tussen Suzy en die taxibestuurder (haar artikulasie van die Duitse adres is allesbehalwe onverstaanbaar) daarop dat die onderskeid tussen binne en buite, tussen die bekende en die onbekende, tussen die een ervarings- en verwysingswêreld en die ander, ook ’n breuk in normatiewe kommunikasie impliseer (Schulte-Sasse 2002).20 

Hierdie teenoormekaarstelling, of eerder naasmekaarstelling van wêrelde word herhaaldelik in die verloop van die film gesuggereer, maar dit is eers teen die einde van die film dat die juistheid van die gerugte van en vermoedens oor heksery bevestig word. Geheime deure moet letterlik geopen word ten einde van die een wêreld na die ander te kan beweeg. Beide Pat en Sara betaal die prys hiervoor en dit is net Suzy, wat in haar ontdekking van die fantastiese wêreld van bose hekse ook die eindoorwinning hieroor kan behaal, die heksekolonie kan vernietig en vervolgens kan terugkeer na ’n (die?) alledaagse wêreld soos gevestig in Westerse rasionaliteit. Die wêreld waarna sy in die slottoneel terugkeer, is weliswaar nie ’n volmaakte wêreld nie, maar ten minste is die gebrokenheid daarvan herleibaar na menslike feilbaarheid – dus “broken minds” (’n gebroke gees) en nie “broken mirrors” (gebreekte spieëls) nie. Frank Mandel en professor Milius word die twee eksponente om die aard van die twee wêrelde, binêr opgestel teenoor mekaar, te interpreteer en te verwoord. Mandel se kwasipsigoanalitiese verduidelikings skiet ver tekort binne die konteks van die verhaalgegewe, wat deels ook gesien kan word as Argento se afwysende kommentaar op psigoanalitiese en/of psigologiese verklarings en narratiewe (kyk Cooper 2012:82).21 

Op diëgetiese vlak skyn die skep van (en handeling volgens) ’n sinvolle, oriënterende verwysingswêreld ’n wyse te wees om die onbekende en irrasionale aan bande te lê of selfs te maskeer. Maar die afwys of negering van die wêreld van “gebreekte spieëls” is geen waarborg dat die ontoereikendheid van geïnstrumentaliseerde, singewende narratiewe nie lukraak ontmasker kan word nie. Ook die tasting na ontglippende herinneringe ten einde ’n koherente narratief te vorm – ’n motief in Argento se hele oeuvre – dui op die toevallige aard van betekenisskepping vanuit ’n subjektiewe perspektief. Suzy onthou eers teen die einde van die film met behulp van ’n visuele impuls die blou iris en eers dán kan sy die betekenis van Pat se woorde snap.22 Dit is ironies dat die laaste stukkie wat die legkaart van haar herinnering voltooi ’n “sleutel” verskaf om die deur na die onbekende oop te maak, en juis nie te sluit nie. Suzy word daardeur die karakter in die film wat veel verder gaan as Pat en Sara. Sy betree nie net fisiek die onbekende wêreld van die heksekolonie nie, maar gaan selfs nóg verder in haar pogings om die letterlike oorsprong en bestendiging van hierdie wêreld in die verpersoonliking van Helena Markos te vind. Dit kan sy net doen deur die onsigbare heks tydens hulle konfrontasie met ’n metaalpen te steek, waarna die magtige Markos in ’n walglike siek vrou inkarneer wat vervolgens ook sterf. Markos, as meesterbetekenaar van hierdie wêreld, manifesteer dus as niks meer (of minder) as die towenaar van The Wizard of Oz nie en haar wêreld van heksery disintegreer dienooreenkomstig met haar dood. Hierdie fantastiese wêreld, so werklik as wat dit ook al was, was uiteindelik bloot ’n konstruk, wat met die verwydering van die tydelike bestendigheid van ’n meesterbetekenaar inplof. Op diëgetiese vlak blyk die ervaringswêrelde van Suspiria niks meer as tydelike en boonop onoortuigende konstrukte te wees nie, want selfs die wêreld waarna Suzy in die slottonele (na alle waarskynlikheid) terugkeer, word niediëgeties op verskeie vlakke ondermyn. 

Die implikasie dat die onderskeie leefwêrelde van die karakters op diëgetiese vlak nie ’n natuurlike gegewe is nie, maar eerder op verskeie wyses gekonstrueer is (en dus ook deur toeval gekompromitteer kan word), resoneer met die wyse waarop niediëgetiese aspekte van Suspiria die kunsmatigheid van eersgenoemde verder blootlê.23 Ongeag of al hierdie aspekte noodwendig as sodanig beplan is of nie, maak dit ’n metarefleksiewe besinning oor die kunsmatigheid van die film se diëgetiese wêreld moontlik. Hoewel enkele van hierdie elemente verder maklik uit die oog verloor kan word, deurdat dit dikwels geoutomatiseerde konvensies van die filmmedium as sodanig insluit, blyk dit egter by nadere ondersoek tog die gekonstrueerdheid of gekunsteldheid van die film te beklemtoon. Hieronder geld die kort “voice-over”, waardeur ’n verteller as niediëgetiese instansie die visuele filmnarratief bykans op sprokiesagtige wyse as vertelling inlei. Daardeur word Suzy se verhaal van haar konfrontasie met en oorwinning oor die hekse niks meer as ’n storie nie, “so … absurd, so fantastic”, soos wat Pat dit stel. 

Die ikoniese klankbaan24 deur die groep Goblin kan eweneens uit hierdie hoek beskou word. Buiten die pulserende begeleiding wat dikwels meer van ’n affektiewe kykervaring in die hand werk as wat dit die narratiewe elemente ondersteun,25 is die bekendste musiekmotief by geleentheid letterlik “in gesprek” met die diëgese van die karakters. Die sê van die woord “witch” is deel van die eksoties-geïnspireerde melodie, soos musikaal gedra deur die boesoeki, maar juis hierdie woord word met Daniel se gewelddadige dood diëgeties geïmpliseer (51.50). Voordat die blinde man op ’n plein deur sy eie gidshond verskeur word, vra hy wie daar is. Subtiel word op die klankbaan die woord “witch” geuiter, wat later duideliker herhaal word. Hierdie motief word trouens dikwels in die loop van die film herhaal, iets wat onmiskenbaar die aanwesigheid van die hekse aandui. Niediëgetiese agentskap sypel hier na die vlak van diëgese deur, met die gevolg dat die diëgese van Daniel (en die ander karakters) as gemanipuleerde (en dus gekonstrueerde) wêreld aangebied word, juis omdat ingrepe vanuit die niediëgese moontlik blyk te wees.26 Die kyker se bewuswording van dié twee diëgetiese vlakke – juis deur die disjunktiewe sinchronisering daarvan – stel die film in sy geheel as kunsmatig gekonstrueerd op die voorgrond (kyk ook Schulte-Sasse 2002; Cooper 2012:78, 81).

Waarskynlik die mees uitstaande kenmerk van Suspiria is die kinematografiese eksperimentering met primêre kleure – iets wat terugherlei kan word na Argento se indrukke van Technicolor, soos gebruik in Walt Disney se 1937-weergawe van Snow White and the seven dwarfs (Schulte-Sasse 2002; kyk ook Stagni en Valente 2017:35, 250). Groot moeite is deur Argento en die kinematograaf, Luciano Tovoli, gedoen om die op daardie stadium reeds uitgediende Kodak-filmrolle in die VSA op te koop ten einde die helder kleure van die film te kan skep (kyk Giusti 2013:154–5; Curti 2017:182). Hoewel enkele kommentators poog om betekenis aan die gebruik van kleur in die film toe te ken – hetsy in terme van die diëgetiese opset van ’n betrokke toneel of in terme van simboliese betekenis27 – skyn die kleure volgens ander aan enige sulke pogings tot interpretasie te ontglip (kyk Misek 2010:142–3; Powell 2012:27). Dit is egter betreklik duidelik dat die gebruik van kleur in Suspiria nie tot semantiese betekenis gereduseer kan word nie, maar juis, tesame met die film se klanklandskap, ’n affektiewe kykervaring bied. Maar hoe ook al ’n interpretasie sou uitspeel, is die gebruik van kleur hoegenaamd nie diëgeties gemotiveerd en verantwoordbaar nie, wat weer eens die gekonstrueerdheid van die film en van film as medium op die voorgrond plaas: “Jarring sounds, jagged shapes, and jolting colors come together in compositions that suggest madness and horror. Their exquisite workmanship makes the film both sublime and beautiful, repellent and hypnotic. It telegraphs the unreality of the diegetic world” (Cooper 2012:86).

Daar is egter ook heelwat ander elemente, wat na alle waarskynlikheid nie as sodanig beplan is nie, maar tog duidelik op die kunsmatigheid van die daargestelde (film)wêreld dui. Die mees ooglopende hiervan is die grafiese moordtonele wat tot in die fynste besonderhede deur Argento gestileer word. ’n Beduidende deel van Argento se oeuvre is trouens gebaseer op sy gedetailleerde stilering van grafiese geweld – in die geval van Suspiria veral van toepassing op die moorde op Pat (12.45) en Sara (1.05.45). Die kleure, musiek en beweging van die kamera skep baie bewustelik ’n operette van die dood, wat visueel alleenlik met ’n filmiese werklikheid versoenbaar is (kyk Cooper 2012:88). Verskeie kontinuïteitsprobleme is in sommige van die tonele te bespeur, onder meer sigbaar in die uitgebreide verloop van moordtonele. Dit is soms onduidelik waar karakters hulle bevind, aangesien die skynbare afwisseling van ruimtes (verder gekenmerk deur onverklaarbare verandering in beligting) nie in terme van die diëgese logies verklaarbaar is nie. Dit laat die vermoede ontstaan dat sommige ruimtes gekies is bloot omdat dit visueel meer treffend is. Hierdie diëgetiese “foute” beklemtoon egter die film as gemanipuleerde produksie. In ooreenstemming hiermee kan ’n “fout” (goof) ontdek word wanneer ’n tou duidelik sigbaar is met die afruk van ’n deur tydens die vernietiging van die Tanzakademie aan die einde van die film (1.32.04). Duidelik is hierdie destruksie nie diëgeties spesifiseerbaar as ’n gevolg van Helena Markos se dood nie, maar eerder as ’n stel wat deur tegnici (onder andere met toue) afgetakel word. Een van die karakters se vlietende kyke na die kamera (45.57) is nie ’n Brechtiaanse deurbreek van die vierde muur nie, maar eerder ’n unheimliche aanduiding van ’n instansie teenwoordig anderkant die diëgese van die film. Ook van die rekwisiete wat gebruik word, is merkbaar oneg: Vlermuise (1.15.45), wyn en veral bloed verraai enige poging tot outentisiteit (kyk Heller-Nicholas 2015, loc 1126). Laastens is daar dikwels foutiewe sinchronisering tussen dialoog en die artikulering van die akteurs: Heelwat van die dialoog is in postproduksie oorgeklank, aangesien baie van die akteurs tonele met dialoog in hulle moedertaal geskiet het, waarna ’n Engelse weergawe saamgestel is (kyk McDonagh 2010:173). 

Die slotsom is dat die tipe regisseurskeuses en/of spore van die filmproduksie die konvensionele geloofwaardigheid van die filmkarakters se leefwêreld ondermyn, hetsy dit die wêreld van “gebreekte spieëls”, “’n gebroke gees”, of die wêreld van herinneringe verteenwoordig.28

Dít is natuurlik uiters problematies indien diëgetiese geloofwaardigheid, soos ingebed in die ontvouing van die filmnarratief, die doelstelling van Suspiria sou wees. Tog bestaan daar ’n ander perspektief wat gebruik kan word om die film te ontsluit, ’n perspektief wat geredelik met die visuele Escher-motiewe in die film in verband gebring kan word. Nie net is die Tanzakademie in Escher Straße nie, maar daar is talle sketse deur Escher wat die ruimtes binne die akademie versier. Argento skryf: “I wanted to create a game of visual illusions: not by chance I scattered in the set pieces many drawings by M.C. Escher” (Argento in Curti 2017:184).

Die struktuur van Suspiria speel hierdie Escher-motiewe performatief uit: Soos wat Escher in sy kunswerke eksperimenteer met die konstruksie van onmoontlike voorwerpe, sfere, kubusse, spirale, ens. (wat dikwels die onmoontlike veelvlakkighede van ruimtes verbeeld), so verteenwoordig die film verskeie diëgetiese en niediëgetiese elemente wat soms met mekaar kontrasteer, soms oorvleuel en mekaar soms impliseer, maar telkens weer ’n beweging of selfs verglyding van een diëgetiese vlak na ’n volgende veronderstel (kyk Cooper 2012:76; Giusti 2013:162; Curti 2017:184). Die rede vir laasgenoemde is dat die ongeloofwaardigheid van een diëgetiese vlak telkens ’n volgende vlak as voorvereiste benodig ten einde betekenis te anker.29 Milius en Mandel poog om die wêreld van die hekse rasioneel te bestendig deur dit te negeer of teoreties te omskryf, terwyl Suzy op soek is na ’n meesterbetekenaar as bron en basis om die bose nominaal (en letterlik!) vas te pen. Hierdie pogings is egter almal onsuksesvol, vernaam omdat die wêreld van die heksekolonie met die vernietiging van Markos inplof. Beide hierdie diëgetiese vlakke word egter deur niediëgetiese elemente ondermyn, met die kyker wat gevolglik van kardinale belang word om die potensiële momentum van die beweging van diëgese na niediëgese tot stilstand te bring ten einde te verhoed dat dit oorspoel na die vlak van ekstradiëgese. Dit kan net met behulp van ’n oorvereenvoudigde interpretasie van die film gedoen word wat as volg verwoord kan word: Suspiria is ’n film met narratiewe leemtes; weens die onkonvensionele vooropstelling van stilistiese elemente skyn die styl daarvan belangriker as die inhoud te wees, en die filmfoute en gebrekkige uitvoering van filmiese konvensies getuig van ’n swak produksiewaarde. Kortom is die kyker agent van “suturing (herverseëling)”30 deur met hierdie of soortgelyke interpretasies die dinamiese beweging tussen diëgetiese vlakke tot die filmteks as sodanig te beperk (kyk bv. Cooper 2012:80). Maar is hierdie interpretasie juis? 

’n Alternatiewe interpretasie sou as volg kon verloop: Die waarde van Suspiria is nie in die narratiewe betekenis daarvan opgesluit nie en enige pogings tot interpretasie, volgens Sontag (1964:8) dikwels gevestig in ’n “arrogance of interpretation”,31 verdoem die film tot dieselfde lot as Helena Markos. Want die film impliseer uiteindelik geen finale betekenis nie buiten, paradoksaal genoeg, die einste voorlopigheid van betekenis. Verder is ook die momentum van die beweging van diëgetiese na niediëgetiese na ekstradiëgetiese vlak nie te keer nie; dit kan grootliks misken word. Want ook die kyker, en sy/haar resepsiekonteks en verwagtingshorison word in hierdie momentum geïmpliseer, met die noodwendige implikasie dat ook die verwysingswêreld van die kyker uitgelewer is aan dieselfde voorlopigheid, onbestendigheid en gemanipuleerde gekunsteldheid as die fiktiewe wêrelde van die film – alleenlik betekenisskepping op ’n metavlak sal dus betekenisskepping op ekstradiëgetiese vlak kan anker.

Die verskillende diëgetiese vlakke van Suspiria kan gemaklik met Genette se begrip van literêre mise en abyme in verband gebring word.32 Hy definieer diëgetiese vlakke in terme van die vertellersinstansie(s) wat die wêrelde waarin die handeling plaasvind, in die lewe roep of sinvol tot uitdrukking bring: “We will define this difference in level by saying that any event a narrative recounts is at a diegetic level immediately higher than the level at which the narrating act producing this narrative is placed” (1980:228). Hy voeg egter baie veelseggend by: “These terms (metadiegetic, etc.) designate, not individuals, but relative situations and functions” (1980:229). Die analogiese struktuur van die verskillende diëgetiese vlakke, dit wil sê in die geval van Suspiria juis die feilbaarheid en ooglopende kunsmatigheid of gestruktureerdheid daarvan, word dus telkens op ’n hoër diëgetiese vlak herhaal wat uiteindelik ook die kyker se ekstradiëgetiese ruimte impliseer. Juis die beweging van een vlak na ’n volgende impliseer wat Genette as metalepse beskryf: “[A]ny intrusion by the extradiegetic narrator or narratee into the diegetic universe (or by diegetic characters into a metadiegetic universe, etc.), or the inverse […] produces an effect of strangeness that is either comical […] or fantastic” (Genette 1980:234–5). Die “vreemde gevoel” ontstaan weens die bewuswording van die metaleps, van die beweging tussen diëgetiese vlakke, van die implikasies wat dit vir die eie konteks inhou. Genette verwys na Jorge Luis Borges, wat hierdie ontologiese implikasies en die ooglopende resonering daarvan met LaCapra se blik op strukturele trauma duidelik maak:

Why does it disturb us that Don Quixote be a reader of the Quixote and Hamlet a spectator of Hamlet? I believe I have found the reason: these inversions suggest that if the characters of a fictional work can be readers or spectators, we, its readers or spectators, can be fictitious. In 1833, Carlyle observed that the history of the universe is an infinite sacred book that all men write and read and try to understand, and in which they are also written. (Borges 1964:187; kyk ook Genette 1980:236) 

Die vermoede van die kyker dat ook die grense van sy of haar wêreld ooreenkomstig die dinamika van metalepse vergly, is ’n insig wat onder meer ontologiese sekerhede oor identiteit ondermyn. Dít is wat LaCapra as die bewuswording van die struktuur van strukturele trauma beskryf – ’n struktuur wat ter wille van epistemologiese sekerhede dikwels met die sinvolheid van bewustelik of onbewustelik gekonstrueerde narratiewe verloën word. Maar Suspiria bevraagteken dan ook die reikwydte van hierdie narratiewe, dié narratiewe wat ten grondslag van beide fiksionele en werklike belewenis- en verwysingswêrelde lê.

3.3 Suspiria en die bevraagtekening van narratiwiteit

Indien ’n fokus op die kunsmatigheid of ooglopende gekonstrueerdheid van die film se diëgetiese wêrelde as vernaamste invalshoek tot die interpretasie van Suspiria gebruik word, daag dit per implikasie ook enige heuristiese narratiewe uit wat ’n kyker mag gebruik om die film te interpreteer. Die film se diëgetiese wêrelde is natuurlik nié gelyk te stel aan narratiewe representasie as sodanig nie, hoewel narratiwiteit nou vervleg is met karakters se betekenisskepping binne die diëgetiese wêreld waarin hulle hulself bevind, asook met die benaderings van kykers wat poog om hierdie fiktiewe wêreld(e) ekstradiëgeties te interpreteer. Hier bo is na enkele narratiewe op diëgetiese vlak verwys wat dan ook verskillende funksies binne die film vervul. Hieronder geld Mandel en Milius se kwasipsigoanalitiese en kwasiokkulties-antropologiese narratiewe en Suzy se pogings om haar herinnering aan Pat se woorde as sleutel tot die geheime van die Tanzakademie in ’n narratief van oorsaak en gevolg te rekonstrueer. Die narratief van die heksekolonie bly egter onbekend, aangesien die beweegredes van die hekse, besluite wat geneem word, historiese tradisies van die kolonie, ens. nooit onder woorde gebring word nie.33 Daar word wel oor die kolonie gepraat, maar geen verteenwoordigers van die kolonie praat as ’t ware sélf nie – en enige moontlike narratief in hierdie verband verdwyn na alle waarskynlikheid met die dood van Helena Markos.34 Dit is gevolglik die “narratief” in die film wat op die mees skouspelagtige wyse ondermyn, oftewel vernietig word. 

Narratiewe word ook ekstradiëgeties as heuristiese middel ingespan om die film te interpreteer, dikwels in terme van analogie of allegorese. Schulte-Sasse identifiseer byvoorbeeld enkele aspekte elemente in Suspiria om die film deels as kommentaar op (Duitse) fascisme te interpreteer. Die vernaamste merker wat sy as kapstok hiervoor gebruik, is die dood van Daniel op ’n stadsplein wanneer hy deur sy gidshond verskeur word: 

Daniel will die in the middle of a huge, empty square flanked by white buildings with Corinthian columns that is redolent of Munich squares like Odeonsplatz. The misplacement of the square with its neo-classical architecture in the quaint, medieval crampedness of Freiburg is significant because it recalls a very different moment of German history, National Socialism, which got its start in Hitler’s infamous 1923 beer hall putsch […] What was National Socialism if not a historical version of what the witches achieve on a seemingly apolitical level: a systematic reign of surveillance and paranoia, a disciplining of the body and social behaviour (those punished in Suspiria are the ones with a “strong will”), a process of selecting who belongs to the “we” and elimination of who does not. (Schulte-Sasse 2002:4, 5) 

Sy voeg egter ’n interessante opmerking by wat haar interpretasie ten gunste van die argument wat hier aangevoer word, ondermyn. Sy voer naamlik aan dat Suspiria in die eerste plek inspeel op die kunsmatigheid van narratiewe, waardeur die illusie van outentisiteit en die gevolglike fiktiewe waarheidsaansprake wat daaruit voortspruit, in geheel ondergrawe word: “Argento also calls attention to his fascism subtext by highlighting the very constructedness of this place that doesn't fit: the square looks fake, like a film set” (Schulte-Sasse 2002:4). En dit is ook die bedoeling: Dit ís vals – soos wat al die diëgetiese ruimtes en die narratiewe wat daarmee vervleg is, eweneens vals blyk te wees.

Twee psigoanalitiese interpretasies kan hier vermeld word wat beide van ’n sterk feministiese invalshoek getuig. Daar moet in gedagte gehou word dat Suspiria tot ’n groot mate ’n film van vrouekarakters is – manlike figure is grootliks op die agtergrond, en indien aan hulle ’n stem gegee word (soos in die geval van Milius en Mandel, Verdegast en Daniel), blyk daar ’n onvermoë te wees om met die wêreld van die heksekolonie om te gaan, of om dit enigsins te verstaan.35 Die eerste interpretasie van hierdie aard is om die film te sien as ’n tematisering van die “monstrous feminine”, soos beskryf deur Barbara Creed:

The evil in Suspiria is the classic evil of the supernatural fairy tale: the female-dominated group of people who run the dance academy is really a coven of witches, and as such they represent what Barbara Creed calls the “monstrous-feminine”, the threat of abjected female power to the patriarchal symbolic order. (Cooper 2012:77) 

Die vraag wat egter op hierdie stelling sou kon volg, is of die heksekolonie se bestaande magstrukture en verdere soeke na mag nie bloot ’n replisering van patriargale strukture is nie (wel in hulle geval tot uitvoering gebring deur die gebruik van bonatuurlike middele). Verder verklaar so ’n interpretasie ook nie die problematisering van die film se diëgetiese vlakke nie: Die inkarnering van Helena Markos in ’n abjekte vergestalting van liggaamlike verval is byvoorbeeld nie altyd oortuigend nie, waardeur die niediëgetiese begrip (die “monstrous feminine” as die abjekte) in spanning met die onoortuigende diëgetiese verbeelding daarvan staan.

Die tweede psigoanalities-geïnspireerde interpretasie verwys onder meer na die struktuur van Suspiria as moderne sprokie, deurdat dit op die ontwaking en ontwikkeling van Suzy tot volwaardige vrou sou fokus (kyk bv. Heller-Nicholas 2015, loc 1141–9; Curti 2017:184). Hierdie interpretasie hou (soos die vorige twee) ooglopend sinvolle betekenispotensiaal in, maar in dié geval kan ’n ontleding van die slottoneel wel op moontlike tekortkominge van so ’n interpretasie dui. Die heel laaste toneel van die film, waarin Suzy die Tanzakademie ná haar oorwinning oor die heksekolonie met ’n glimlag op haar gesig verlaat (terwyl die gebou op die agtergrond deur vlamme verswelg word), is enersyds die film se mees ambivalente toneel, maar andersyds ook emblematies van hoe verskeie narratiewe op beide diëgetiese en ekstradiëgetiese vlak potensieel by mekaar betrek kan word. Suzy se lag is op alle vlakke ’n sluitstuk vir die film: Op diëgetiese vlak is dit ’n ryklik verdiende glimlag van oorwinning, en binne die konteks van die filmnarratief beteken dit waarskynlik ook ’n afsluiting van ’n hoofstuk in haar lewe, die herbevestiging van die grens tussen die onbekende en die bekende en ’n eenduidige keuse vir laasgenoemde. Ook het sy haar fragmentariese herinnering aan Pat se gesprek in ’n narratief gekonsolideer, wat ’n sleutel was tot haar oorwinning oor die bose. Op alle diëgetiese vlakke is die narratiewe wat daarmee verbind kan word, hoe beperkend dit ook mag aandoen, afgesluit, met Suzy se glimlag van oorwinning as seël daarop.

Die karakter van Suzy kan egter ook ekstradiëgeties gedui word as die intertekstuele verpersoonliking van ’n maagdelike sprokiesfiguur wat die bose oorwin en met hierdie glimlag haar oorwinning vier. Só word Suspiria (onder meer met verwysing na Propp se morfologie) ’n moderne weergawe van ’n tradisionele sprokie, met die einde van die film wat die oorwinning van ’n sterk vrouefiguur daarstel.36 Met verwysing na die grufilmtradisie kan Suzy in nabetragting dus ook in verband gebring word met die “final girl” van die “slasher”-subgenre en dus ook as ’n springmielieweergawe van ’n sterk feministiese karakter. Die probleem is egter dat ’n siniese teenargument met geredelike gemak aangevoer kan word, waardeur Suzy juis as ’n niefeministiese figuur getipeer word. As vrou verraai sy die chaotiese manifestering van vroulike (en feministiese) mag, soos vergestalt in die heksekolonie37 – ’n verraad gegrond in die tasbare vernietiging van laasgenoemde en haar terugkeer na die wêreld van ’n patriargale magsdinamika. Só gesien is haar glimlag ’n uiters siniese metafoor vir ’n baie holle oorwinning. Hierdie narratiewe staan dus tot ’n mate in spanning met mekaar en hoewel elkeen met groot vrug aangewend kan word om aspekte van die film te ontsluit, blyk dit eweneens beperkend of ontoereikend te wees. Die punt is om die film se ondermyning van narratiwiteit nie te sien bloot in terme van die valsheid of misplaastheid van die betrokke narratiewe nie, maar wel ook in terme van die tekortkominge wat hierdie narratiewe suggereer, op beide diëgetiese en ekstradiëgetiese vlak. Dit gaan dus oor die beperkte en beperkende reikwydte van die ekstradiëgetiese narratiewe se verklarende potensiaal en in soverre is die ondermyning van narratief hier te verstaan as die inperking van die betekenispotensiaal wat dit bied. 

Die mees oortuigende argument wat as teken van die ondermyning van narratiwiteit in Suspiria aangevoer kan word, is om op Argento se bewustelike stilering van tonele, veral van grafiese geweldstonele, te fokus. Die dun verhaallyn word immers telkens weer oorweldig deur kleur, klank en beeld, wat ’n heeltemal ander benadering tot die film noodsaak: Narratief word skaars meer as ’n verbindingsmiddel tussen provokatiewe tonele (“set-pieces”), wat ’n affektiewe indompeling in die filmervaring impliseer. Hierdie fokus op affektiwiteit is gegrond in ’n gebrek aan narratiewe oriëntasie (kyk bv. Cooper 2012:81, 90, 107; McDonagh 1993:57; 2010:22; Heller-Nicholas 2015, loc 96). Soos wat Shaviro (1993:60) veral met verwysing na die gestileerde geweld beweer: 

Our “identification” or investment is with the very bodies being dismembered, rather than with the agents of their destruction. This is why it is so wrong to regard the films of someone such as Dario Argento as being misogynistic or vengefully patriarchal fantasies. Even when the heroine’s survival is at issue – as in Suspiria or Terror at the Opera – the protagonist’s dread, shared by the viewer in a state of fearful anticipation, blends into a kind of ecstatic complicity at the convulsive point of danger and violence. Argento’s hyperbolic aestheticization of murder and bodily torment exceeds any hope of comprehension or utility, even as it ultimately destabilizes any fixed relations of power. The spectatorial affect of terror is an irrecuperable excess, produced when violated bodies are pushed to their limits. Terror subsists as a surplus affect, an “incorporeally material” image/effect, a kind of ghostly emanation that survives the extinction of the victim’s body and escapes being appropriated to the account of the killer’s insatiable ressentiment.

(Kyk ook 1993:ix, asook Heller-Nicholas 2015, loc 334, 884; Costanzo 2014:278, 280; Hutchings 2003:129, 133–4, 137; Koven 2006:123, 125–7, 141, 156.) 

Indien enigsins van semantiese betekenis gepraat sou kon word, sou dit teenwoordig wees in die konnotatiewe aaneenskakeling van beelde en vir seker niks te make hê met die denotatiewe struktuur daarvan nie. Só ’n benadering sou beskryf kon word as Tom Gunning (2006:385) se “cinema of attractions”, dus ’n opvatting van film wat teruggryp na ’n tyd voor die “narrativering” van die filmmedium. Sy konseptualisering van die beginjare van film (d.i. voor 1906) word deur hom in verband gebring met die avant-garde, wat “’n fokusverskuiwing vanaf die narratiewe binding van die visuele beelde na ’n meer ‘direkte’ impak van die beeld op ’n sintuiglike vlak [impliseer en ...] wat dus nie gemedieer word deur die funksie wat dit in terme van ’n/die betrokke narratief vervul nie” (Van den Berg 2017b). Gunning vind sy inspirasie in opmerkings van Sergei Eisenstein oor die destydse filmiese avant-garde, wat die visuele as narratologies ongebonde skouspel tipeer: 

An attraction […] is any aggressive moment in theatre, i.e. any element of it that subjects the audience to emotional or psychological influence, verified by experience and mathematically calculated to produce specific emotional shocks in the spectator in their proper order within the whole. These shocks provide the only opportunity of perceiving the ideological aspect of what is being shown, the final ideological conclusion […]. Emotional and psychological, of course, in the sense of direct reality as employed, for instance, in the Grand Guignol, where eyes are gouged out or arms and legs amputated on stage, or the direct reality of an actor on stage involved through the telephone with a nightmarish event taking place dozens of miles away, or the situation of a drunkard who, sensing his approaching end, pleads for protection and whose pleas are taken as a sign of madness. (Eisenstein 1998:30 – oorspronklike beklemtoning; kyk ook Strauven 2006:11, 18 en Elsaesser 2006:207.) 

Is dit nie ironies dat Eisenstein in grafiese terme onder meer na tonele uit die Grand Guignol verwys nie, tonele wat maklik in enige Argento-film, insluitende Suspiria, sou tuishoort? Met apologie aan Eisenstein sou ek die ideologiese insig wat die kyker as gevolg van ’n affektiewe belewenis van “skouspelagtige” tonele sou verkry, wou gelykstel met die bewuswording van die ontologiese leemtes, of dan strukturele trauma, anderkant gemaklike narratiewe. As alternatief tot die film gesien as “cinema of attractions”, maar tog ook in die buurt van laasgenoemde, kan Suspiria verder volgens Powell (2005:8–9) in terme van die mildelike gebruik van Deleuziaanse “tactisigns” en “sonsigns” verstaan word, wat die kyker opneem in ’n “affective contamination” gekenmerk deur die afwesigheid van afstandelikheid, wat narratiwiteit meestal impliseer (kyk ook 119–21; Powell 2012:168, 172–5). So ’n benadering gaan uit die staanspoor van die beginsel uit dat film in die eerste plek visueel is, met narratief dus as ’n terloopse toevoeging wat na die aanvanklike eksperimenterings met die filmgenre met verloop van tyd as konvensie geoutomatiseer is.38 Volgens Koven (2006:126–7, 141, 156) en Totaro (2003:162, 163) is die tradisie van die filmiese skouspel wat in spanning met die filmiese narratief staan, ’n element wat dikwels in die Italiaanse films teruggevind kan word – wat Suspiria en per implikasie Argento as deel van hierdie tradisie bevestig. Maar ongeag hoe dit geïnterpreteer word, of watter waarde daaraan toegevoeg word, bevraagteken Suspiria dus in die eerste plek narratiwiteit, deur onder meer die geloofwaardigheid en/of outentisiteit van die verskillende diëgetiese vlakke wat daarmee geassosieer word, te problematiseer.

 

4. Slot: vergestaltings van trauma

Van die tematisering van historiese trauma is daar in Suspiria (1977) geen sprake nie – die gestileerde doodstonele laat geen oorlewendes of getuies nie en dit is moontlik net die ongeïnisieerde Argento-kyker wat deur die grafiese geweld ontstel mag word. Maar na die hoogbloei van die Amerikaanse “slasher”-filmgenre, waartoe Argento se gialli en bonatuurlike grufilms so ’n groot bydrae gelewer het, is selfs grafiese geweld sedertdien ’n geoutomatiseerde kenmerk van talle films wat tot die grufilmgenre behoort. Die ooglopendste en mees onlangse voorbeeld hiervan is die martelpornofilmgenre, wat egter ook ander invloede van beide die Amerikaanse en die Italiaanse filmtradisies betrek.39 Wat egter wel uit die ontleding van Suspiria duidelik geword het, is ’n verskuiwing van fokus wat tussen die film se diëgetiese vlakke plaasvind: Geen van die diëgetiese vlakke skyn outargies betekenis moontlik te maak nie, met die gevolg dat ’n metavlak van diëgese telkens noodsaaklik is om betekenis te anker. Die diëgetiese vlak word deur bedoelde en onbedoelde elemente uit die niediëgetiese vlak geaffekteer, terwyl laasgenoemde slegs deur die kyker se (simplistiese) interpretatiewe blik vanuit die ekstradiëgetiese vlak as afgeslote narratief beskou kan word om sodoende die betekenis van die film te bestendig.40 Om dit in ander woorde te stel: Daar bestaan ’n diëgetiese surplus op elk van die diëgetiese vlakke wat dan telkens weer ’n metavlak suggereer, om die oormaat aan betekenis te absorbeer. Wat daarom voorop staan, is die gekunstelde konstruk van die film as film. 

Soos hier bo aangedui, is strukturele trauma nie direk te beskryf of te verbeeld nie. Die enigste wyse waarop die aanwesigheid daarvan geïmpliseer kan word, is deur dit sydelings te suggereer deur die strukturele of ontologiese leemte in die sentrum van die Simboliese orde performatief uit te speel. In die geval van Suspiria (1977) word dit verbeeld: Sonder historiese slagoffers van trauma staan beide karakters en kykers van die film onder die skaduwee van die strukturele trauma wat deur die gekunstelde diëgetiese vlakke van die film, en dus die beperkinge van die narratiwiteit wat daarmee geassosieer word, geïmpliseer word. Ook die kyker se ekstradiëgetiese wêreld word geïmpliseer as gekunsteld, terloops, toevallig, gemanipuleerd en maklik kompromitteerbaar. Die tipering van Suspiria (1977) as vergestalting van strukturele trauma veronderstel trouens ’n verdere poging om op ekstradiëgetiese vlak die betekenis van die film te bestendig. Maar dit impliseer weliswaar ook hierdie interpretasie as maar een teoretiese invalshoek onder vele ander – wat gevolglik ’n verdere metavlak van interpretasie noodsaak om die verskeie interpretasiemoontlikhede tot een benadering te integreer waardeur finale betekenis vasgelê kan word. In soverre sny die film veel dieper as wat dit met ’n eerste oogopslag mag lyk, deurdat dit iets laat deurskemer van dit wat LaCapra met die begrip strukturele trauma bedoel: die (poststrukturalistiese) onbestendigheid van die simboliese wêreld waarin die talige subjek ontvang en gebore is. Moet dit egter steeds ’n trauma genoem word, gesien dat almal (struktureel) en dus ook niemand nie (histories) slagoffers hiervan is? In hierdie verband is Suspiria (1977) ’n speelse omgaan met die problematiek van strukturele trauma, maar die werklike impak van hierdie tipe trauma rig as ’t ware die bestaan van menswees, hetsy die wêreld van die mens gesien word as bepaald deur “gebreekte spieëls” of deur “’n gebroke gees”. In vergelyking hiermee is die omgaan met historiese trauma dikwels eties meer gekompliseerd – iets wat in deel twee van hierdie studie met verwysing na Suspiria (2018) ondersoek sal word.

 

Bibliografie

Ahmad, A. en S. Moreland (reds.). 2013. Fear and learning: Essays on the pedagogy of horror. Jefferson: McFarland & Company. 

Allmer, P., E. Brick en D. Huxley (reds.). 2012. European nightmares: Horror cinema in Europe since 1945. Londen en New York: Wallflower Press. 

Anderson, A. 2018. Venice: Thom Yorke equates writing “Suspiria” soundtrack to “Casting spells”. The Hollywood Reporter. https://www.hollywoodreporter.com/news/venice-thom-yorke-equates-writing-suspiria-soundtrack-casting-spells-1139211 (27 Junie geraadpleeg).

Balaev, M. (red.). 2014. Contemporary approaches in literary trauma theory. Basingstoke: Palgrave Macmillan. 

—. 2014. Literary trauma theory reconsidered. In Balaev (red.) 2014.

—. 2018. Trauma studies. In Richter (red.) 2018.

Beulens, G., S. Durrant en R. Eaglestone (reds.). 2014. The future of trauma theory: Contemporary literary and cultural criticism. Londen en New York: Routledge. 

Bond, L. en S. Craps. 2020. Trauma. Londen en New York: Routledge.

Borges, J.L. 1964. Partial magic in the Quixote. In Yates en Irby (reds.) 1964.

Brown, K.H. 2012. Deleuzean hybridity in the films of Leone and Argento. Edinburgh: University of Edinburgh. PhD-proefskrif.

Caruth, C., R.P. Brochard en B. Tam. 2019. “Who speaks from the site of trauma?”: An interview with Cathy Caruth. Diacritics, 47(2):48–71.

Cohn, D. 2012. Metalepsis and mise en abyme. Narrative, 20(1):105–14.

Cooper, L.A. 2012. Contemporary film directors: Dario Argento. Urbana, Chicago en Springfield: University of Illinois Press.

Costanzo, W. 2014. World cinema through global genres. Chichester: Wiley Blackwell.

Curti, R. 2017. Italian gothic horror films, 19701979. Jefferson: McFarland & Company, Inc., Publishers.

Davis, C. en H. Meretoja (reds.). 2020. The Routledge companion to literature and trauma. New York en Londen: Routledge. 

De Quincey, T. 2013. Confessions of an English opium eater and other writings. Oxford: Oxford University Press. 

Dickmann, I. 2019. The little crystalline seed: The ontological significance of mise en abyme in post-Heideggerian thought. Albany: State University of New York Press.

Edwards, M. 2007. The new throwback: The films of Dante Tomaselli. In Edwards (red.) 2007.

Edwards, M. (red.). 2007. Film out of bounds: Essays and interviews on non-mainstream cinema world-wide. Jefferson en Londen: McFarland & Company.

Eisenstein, S. 1998. The montage of attractions (1923). In Taylor (red.) 1998.

Elsaesser, T. 2006. Discipline through diegesis: The rube film between “Attractions” and “Narrative integration”. In Strauven (red.) 2006.

Firsching, R. 1997. Suspiria: Dario Argento’s masterpiece of gothic horror. Images Journal, 5. http://www.imagesjournal.com/issue05/infocus/suspiria.htm (13 Januarie 2020 geraadpleeg).

Genette, G. 1980. Narrative discourse: An essay in method. Ithaca: Cornell University Press.

Giusti, G.L. 2013. Expressionist use of colour palette and set design in Dario Argento’s Suspiria (1977). Cinergie: il cinema e le altre arti, 2(4):154–65.

Gunning, T. 2006. The cinema of attraction[s]: Early film, its spectator, and the avant-garde. In Strauven (red.) 2006. 

Gutman, Y., A.D. Brown en A. Sodaro (reds.). 2010. Memory and the future: Transnational politics, ethics and society. Basingstoke: Palgrave MacMillan. 

Heller-Nicholas, A. 2015. Devil’s advocates: Suspiria. Buzzard: Auteur. Kindle-weergawe. 

Hutchings, P. 2003. The Argento effect. In Jancovich e.a. (reds.) 2003.

Jancovich, M., A.L. Reboll, J. Stringer en A. Willis (reds.). 2003. Defining cult movies: The cultural politics of oppositional taste. Manchester: Manchester University Press.

Koven, M.J. 2006. La Dolce Morte: Vernacular cinema and the Italian giallo film. Lanham, Toronto en Oxford: The Scarecrow Press. 

LaCapra, D. 1994. Representing the holocaust: History, theory, trauma. Ithaca en New York: Cornell University Press.

—. 1998. History and memory after Auschwitz. Ithaca en Londen: Cornell University Press. 

—. 2001. Writing history, writing trauma. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

—. 2004. History in transit: Experience, identity, critical theory. Ithaca en New York: Cornell University Press.

—. 2009. History and its limits: Human, animal, violence. Ithaca en Londen: Cornell University Press.

—. 2013. History, literature, critical theory. Ithaca en New York: Cornell University Press. 

Laity, K.A. 2013. A raven’s eye view: Teaching scopophilia with Dario Argento. Fear and learning: Essays on the pedagogy of horror. In Ahmad en Moreland (reds.) 2013. 

McDonagh, M. 1993. The elegant brutality of Dario Argento. Film Comment, 29(1):55–8.

—. 2010. Broken mirrors / Broken minds: The dark dreams of Dario Argento. Minneapolis en Londen: University of Minnesota Press.

—. 2016. Trauma, history, memory, identity: What remains? History & Theory, 55(3):375–400. 

McHale, B. 2006. Cognition en abyme: Models, manuals, maps. Partial Answers: Journal of Literature and the History of Ideas, 4(2):175–89.

Misek, R. 2010. Chromatic cinema: A history of screen color. Chichester: Wiley Blackwell. 

Needham, G. 2003. Playing with genre: Defining the Italian giallo. In Schneider (red.) 2003. 

Olick, J. 2010. Afterword. In Gutman e.a. (reds.) 2010.

Powell, A. 2005. Deleuze and horror film. Edinburgh: Edinburgh University Press.

—. 2012. Dario Argento and Deleuze’s cinematic sensorium. In Allmer e.a. (reds.) 2012.

Richter, D.H. (red.). 2014. A companion to literary theory. Chichester: Wiley Blackwell.

Rothberg, M. 2014. Preface: Beyond Tancred and Clorinda – Trauma studies for implicated subjects. In Beulens e.a. (reds.) 2014. 

Schneider, S.J. (red.). 2003. Fear without frontiers. Godalming: FAB-Press.

Schulte-Sasse, L. 2002. The “mother” of all horror movies: Dario Argento’s Suspiria (1977). Kinoeye, 2(11). https://www.kinoeye.org/02/11/schultesasse11.php (13 Januarie 2020 geraadpleeg). 

Shaviro, S. 1993. The cinematic body. Minneapolis en Londen: University of Minnesota Press. 

Sontag, S. 1964. Against interpretation. https://shifter-magazine.com/wp-content/uploads/2015/10/Sontag-Against-Interpretation.pdf (13 Januarie 2020 geraadpleeg). 

Stagni, P. en V. Valente (reds.). 2017. On Suspiria and beyond: A conversation with cinematographer Luciano Tovoli. Dublin: Artdigiland Ltd. Kindle-weergawe.

Strauven, W. 2006. Introduction to an attractive concept. In Strauven (red.) 2006. 

Strauven, W. (red.). 2006. The cinema of attractions reloaded. Amsterdam: Amsterdam University Press.

Taylor, R. (red.). 1998. The Eisenstein reader. Londen: British Film Institute.

Totaro, D. 2003. The Italian zombie film: From derivation to reinvention. In Schneider (red.) 2003.

Tseti, A. 2016. Review of Gert Buelens, Sam Durrant and Robert Eaglestone (eds), The future of trauma theory: Contemporary literary and cultural criticism. Jane Kilby and Antony Rowland (eds), The future of testimony: Interdisciplinary perspectives on witnessing. European Journal of American studies, 2016–1. https://journals.openedition.org/ejas/11174 (27 Junie geraadpleeg). 

Van den Berg, C. 2017a. Slavoj Žižek en film(teorie)? Deel 1: ’n Oorsig. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(1):187–204. 

—. 2017b. Slavoj Žižek en film(teorie)? Deel 2: ’n Interpretasie van It follows. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(2):596–613.

—. 2018a. Die Lacaniaanse Reële en grufilms: Jennifer Kent se The Babadook (2014). LitNet Akademies, 15(1):30–68. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2018/06/LitNet_Akademies_15-1_VandenBerg_30-68.pdf.

—. 2018b. Die Lacaniaanse Reële en grufilms: Die kommodifisering van die Reële? Enkele opmerkings oor die “martelporno”-genre. LitNet Akademies, 15(1):69–99. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2018/06/LitNet_Akademies_15-1_VandenBerg_69-99.pdf.

Yates, D.A. en J.E. Irby (reds.). 1964. Jorge Luis Borges: Labyrinths: Selected stories and other writings. New York: New Directions Publishing Corporation.

 

Eindnotas

1 Gesien as beide unieke gebeurtenis en unieke, historiese, strukturele gegewe. 

2 Die werk Contemporary approaches in literary trauma theory deur Balaev (2014) se fokus is juis op pluralistiese modelle van trauma. Die afplatting van traumateorie kan drieledig verstaan word. Eerstens het die vernuwende eksponensiële groei van traumateorie, veral in terme van die poststrukturalistiese invalshoek van die Yale-skool (waarmee Caruth soms in verband gebring word) begin verlangsaam. Tweedens het die diversifisering en dikwels ook selfrefleksiewe problematisering van en kritiek op sommige van die seminale tekste in die ontwikkelende tradisie (bv. rakende die Eurogesentreerdheid daarvan) daartoe gelei dat die kontoere van trauma so ver verlê is dat verskeie konseptuele terreine hierby betrek is wat voorheen nie sentraal tot traumateorie gestaan het nie. Hiervolgens dui die afplatting nie op verminderde belangstelling nie, maar eerder op die breër-gekonseptualiseerde tersaaklikheid daarvan (kyk bv. Caruth 2019:65). In ’n bundel met die titel The future of trauma theory voer Rothberg (2014, loc 138–146) aan: “While recognizing their debt to the intellectual genealogy that culminated in the poststructuralist theorization of trauma in the 1990s, the contributors are not bound to or by it. Both individually and, most powerfully, taken together, they make an irrefutable argument that in the future – and, really, already in the present – trauma studies will need to travel further and add a whole new series of destinations to its agenda.” Twee ander terugskouende bundels sluit by hierdie siening aan: Trauma (2020) deur Lucy Bond en Stef Craps en The Routledge companion to literature and trauma (2020), saamgestel deur Colin Davis en Hanna Meretoja. Derdens het die ontwikkelinge binne (kollektiewe-)geheuestudies ’n merkbare invloed op die trajek van traumateorie gehad, aangesien hierdie velde nou met mekaar vervleg is. Wat egter geld vir kollektiewe geheuestudies geld ook vir traumastudies: “Critics are thus often conflating memory studies with the boom it analyzes when they seek to dismiss it along with the politics it seemed to them to represent. But we now have the perspective, through a growing intellectual history, to see that memory studies is not reducible to the boom of the last 30 years” (Olick 2010; kyk ook LaCapra 2016 en Tseti 2016).

3 Van sy seminale werke in hierdie verband sluit in: Representing the Holocaust: History, theory, trauma (1994), History and memory after Auschwitz (1998) en Writing history, writing trauma (2001).

4 Kyk o.a. LaCapra (1994:14, 205–8); (1998:46–8, 111, 195, 208); (2001:59, 84, 107–9, 186); (2004:120–2); (2009:38–43, 70–1, 115, 158) en (2013:148–63).

5 Kyk Van den Berg (2017a, 2017b, 2018a, 2018b) vir ’n uitvoerige bespreking van die Lacaniaanse Reële, veral binne die konteks van (gru)films.

6 Hierdie stelling is egter ook problematies, deurdat meer onlangse opvattinge ook op historiese strukture van traumatisering dui, wat ’n heeltemal ander dimensie hieraan verleen. Volgens laasgenoemde sou slawerny of brutale sosiopolitieke diskriminasie wat oor jare strek, ook as historiese trauma kon geld. Hoewel dit dus ’n struktuur veronderstel, is dit histories vasstelbaar.

7 Kyk die hoofstuk “Conclusion: Acting-out and working-through” in LaCapra se Representing the Holocaust: History, theory, trauma (1994) vir ’n duidelike uiteensetting van die verwerking en/of performatiewe (en simptomatiese) uitspeel van trauma (kyk ook LaCapra 1998:44). 

8 Buiten Mater Suspiriorum beskryf De Quincey (2013:143) ook Mater Lachrymarum, “Our Lady of Tears”, en Mater Tenebrarum, “Our Lady of Darkness”: “These were the Semnai Theai, or Sublime Goddesses — these were the Eumenides, or Gracious Ladies, (so called by antiquity in shuddering propitiation)—of my Oxford dreams.” Die drie figure kan nominaal met die hekse in Argento se Le Tre madri- (The three mothers-) trilogie in verband gebring word. Laasgenoemde bestaan uit Suspiria, Inferno (1980) en La Terza madre (The third mother, 2007).

9 Giallo (“geel”) verwys na die Italiaanse gruriller-filmgenre, oorspronklik geïnspireer deur die goedkoop sagteband-misdaadfiksie/speurromans, wat tradisioneel met ’n geel omslag uitgegee is. Dit verteenwoordig geensins ’n duidelik omlynde genre nie (kyk bv. Needham 2003:135, 136, 138), maar sluit sekere konvensies soos eerstepersoonskameraskote, erotiese tonele wat op gestileerde geweld (dikwels in die vorm van grafiese moordtonele) uitloop, ’n “whodunnit”-storielyn, ’n moordenaar geklee in ’n masker en met swart handskoene aan, ens. in. Selfs al is die konvensies van die giallo-genre veranderlik, dui direkte intertekstuele verwysings van die “slasher”-genre na spesifieke gialli op ’n onmiskenbare skatpligtigheid jeens laasgenoemde. Die ooglopendste voorbeeld hiervan is die eerste twee Friday the 13th-films wat tonele uit Mario Bava se Ecologia del delitto (Bay of Blood, 1971) direk herhaal (kyk Koven 2006:3–4, 146–7, 159–71. Bava (1914–1980) geld as een van die grondleggers van die giallo, aangesien hy nie net oorspronklik die stilistiese en narratiewe kenmerke van die genre vasgestel het nie, maar ook ’n beduidende invloed op die films van Argento uitgeoefen het. Dit val buite die bestek van hierdie studie om die impak van gialli op “slashers” meer volledig te bespreek, maar kyk Van den Berg (2017b:601–5) vir ’n voëlvlugblik op die historiese trajek, generiese merkers en konvensies van “slashers”.

10 Hy skryf onder meer saam met Bernardo Bertolucci die draaiboek vir een van die belangrikste films in die (spaghetti-) Western-genre: Sergio Leone se C’era una volta il West (Once upon a time in the West, 1968).

11 Le cinque giornate (The five days, 1973), ’n komediedrama wat teen die agtergrond van die anti-Oostenrykse opstande in Milaan van 1848 afspeel, is binne die konteks van Argento se eerste ses films ’n tematiese uitvaller (kyk ook McDonagh 2010:71–2).

12 In The bird with the crystal plumage onthou en interpreteer die getuie (en hoofkarakter) Sam Dalmas ’n gewelddadige insident verkeerd; in The cat o’ nine tails poog Cookie om die betekenis van ’n gesprek wat toevallig en gedeeltelik deur hom gehoor is, met ’n reeks moorde in verband te bring; Four flies on grey velvet tematiseer onder meer die bedrieglikheid van die subjektief-gekonstrueerde ervaring van protagonis, Roberto Tobias; en Deep red vertel die verhaal van Marcus Daly, wat eweneens met die bedrieglikheid van sy ooggetuienis van ’n gewelddadige gebeurtenis gekonfronteer word. Ook in Suspiria poog Suzy Bannion telkens weer om die laaste stukkie van haar herinnering aan ’n insident uit haar geheue op te diep om sodoende die legkaart te voltooi, verklarings te vind en betekenis vas te lê. Hierdie motief is ook kenmerkend vir ’n hele aantal van Argento se latere films, byvoorbeeld Tenebre (Tenebrae, 1982), Trauma (Dario Argento’s Trauma, 1993), La sindrome di Stendhal (The Stendhal syndrome, 1996) en Non ho sonno (Sleepless, 2001); kyk ook Cooper (2012:152).

13 Hierdie aspek word in die Italiaanse weergawe van die film verder beklemtoon deur die feit dat Dario Argento self die agtergrondstemrol waarneem: “Suzy Banyon decided to perfect her ballet studies in the most famous school of dance in Europe. She chose the celebrated academy of Freiburg. One day, at nine in the morning, she left Kennedy airport, New York, and arrived in Germany at 10:40 p.m. local time ...”

14 “In the film, the exaggerated ceiling-height and the vaulted doors of the interiors of the building constantly give the impression of dwarfing the actresses, as if they were being crushed by the massive environment […]. This impression does not occur at random, as the idea of reducing the actresses’ size through architecture and décor was a factor of Argento’s original conception. Suspiria’s original setting was to be a children’s school. Argento eventually changed the script after an argument with his Italian distributor, who considered the idea of children being chased and tortured by evil witches inappropriate” (Giusti 2013:159; kyk ook 154).

15 Hy was byvoorbeeld ooggetuie van ’n bomontploffing, soos uitgevoer deur die RAF (Rote Armee Fraktion) in München tydens die verfilming van Suspiria. Hierdie punt is onder meer in Luca Guadagnino se herverfilming van Suspiria belangrik. 

16 Die Tanzakademie as beliggaming van die hekse se bose teenwoordigheid word onder meer ook performatief deur die kamerabewegings (wat geen ooglopende “herverseëling” moontlik maak nie) geïmpliseer (kyk bv. 48.15). (Kyk eindnota 30 oor “suturing”.) 

17 Kyk veral Cooper (2012:94–118) vir ’n baie insiggewende ontleding van Inferno en The third mother in terme van die problematisering van narratiewe strategieë, in vergelyking met die narratief van Suspiria

18 In hierdie betoog word niediëgetiese vlakke geassosieer met filmelemente wat nie bewustelik deur die karakters beleef (kan) word nie, byvoorbeeld die klankbaan, die redigering, kamerafokus en -tegnieke, ens.; terwyl die ekstradiëgetiese vlak dié van die kyker in sy/haar resepsiekonteks veronderstel, soos wat laasgenoemde sy/haar verwagtingshorison bepaal. Wanneer “diëgetiese vlakke” vermeld word, sluit dit dus ook die niediëgetiese en ekstradiëgetiese vlakke in, aangesien dit in terme van diëgese gekonseptualiseer is. 

19 Pat maak aan die begin van die film die volgende uitlating, wat beide as diëgetiese kommentaar op die binêre opposisie tussen die twee fiksionele wêrelde én as metarefleksiewe kommentaar op die film as sodanig geïnterpreteer kan word: “It’s useless to try and explain it to you. You wouldn’t understand. It all seems so … absurd … so fantastic.” (Kyk ook Cooper 2012:75–6.) 

20 Die oorgang van die “een wêreld” na die “ander” word deur die kinematograaf Luciano Tovoli soos volg beskryf: “I immediately decided to make that place the borderline between reality and abstraction. I imagined that the passengers unwittingly had to cross through a violent red light, created by an intended overexposure, immersing them, together with the young American, in a world of extreme colours and unnaturally – supernaturally – coloured rain, with blinding and mysterious chromatic variables […] It’s the first symbolic frame in Suspiria. When you see the coloured rain, especially the first bloodred downpour, you understand that we’re in another world, far from so-called reality” (Stagni en Valente 2017, loc 807, 865).

21 Die wyse waarop Suzy se gesprekke met Mandel en Milius verfilm is, verbeeld volgens Heller-Nicholas 2015, loc 1119) letterlik (en ironies) die metafoor van “broken mirrors”.

22 Kyk 5.22 (die ontmoeting met Pat waartydens Suzy die woorde hoor); 23.50 (’n eerste poging om Pat se woorde te onthou – Suzy kan slegs “secret” en “iris” of “lilac” onthou); 54.48 (gesprek met Madame Blanc, waartydens Suzy net “secret” en “irises” onthou); 1.22.43 (die ontknoping, waarmee Suzy by die aanskoue van ’n blou iris in ’n spieël Pat se woorde in geheel kan agterhaal). 

23 ’n Ander beskrywing sou dié van die kinematograaf, Luciano Tovoli, wees: “I had the sensation that another world, another horizon had opened up before my eyes. It was a much freer horizon, with more fresh air than just the straightforward reproduction of the real world allowed. This was a world of creative freedom, finally unchained from the obsession with realism” (Heller-Nicholas 2015, loc 1480).

24 Thom Yorke, wat deur Luca Guadagnino genader is om die musiek vir die hervervaardiging van Suspiria te komponeer, beskryf die Goblin-klankbaan onder meer as legendaries (Yorke in Anderson 2018; kyk ook Laity 2013:130; Edwards 2007:119).

25 Oor Suspiria as affektiewe kykervaring, of “cinema of attraction”, later meer.

26 Met verwysing na hierdie inspeel van diëgetiese vlakke op mekaar sou Suspiria met groot vrug vanuit die perspektief van “herverseëling” ontleed kon word (kyk eindnota 30).

27 Kyk byvoorbeeld Giusti (2013:154–5, 157).

28 Kyk McDonagh (2010:99): “What’s most remarkable about both films and particularly about Suspiria – perhaps only because it was made first and paved the way for Inferno – is their mind-boggling artificiality.”

29 Die ankering van betekenis verteenwoordig natuurlik pogings tot “herverseëling” (kyk eindnota 30).

30 Kyk Van den Berg (2017a:191): “Die volgende kan as ’n baie simplistiese voorbeeld van filmiese ‘suturing’ dien: 1) die kyker sien ’n kameraskoot en geniet die beeld wat hy/sy sien; 2) die kyker ervaar die geïmpliseerde gekonstrueerdheid van die kameraskoot deur bewuswording van die ‘framing’ daarvan; 3) hierdie insig impliseer ’n instansie wat vir die ‘framing’ van die beeld verantwoordelik is, maar sodra die kyker hierdie instansie (d.i. die perspektief van waaruit die kameraskoot gerig of gekonstrueer word) kan identifiseer of selfs hom- of haarself met hierdie instansie kan identifiseer (byvoorbeeld deur ’n volgende kameraskoot), het ‘suturing’ plaasgevind. Die aktiwiteit van die kyker word dus gewek (2) maar dít word binne die parameters van die filmiese teks geabsorbeer (3) deurdat die illusie van (uitgestelde) koherensie geskep word. In Lacaniaanse terme beskryf suksesvolle ‘suturing’ dus die toetrede van die subjek tot die Simboliese Orde, ofte wel die suksesvolle inneem van ’n (ideologies gekontamineerde) subjekposisie deur identifisering met laasgenoemde.” Ek gebruik hier “herverseëling” as ekwivalent van “suturing”, aangesien eersgenoemde ’n proses van normalisering by die kyker bewerkstellig, nadat die kyker as gevolg van ’n bevreemdende ervaring bewus geword het van die gemanipuleerde aard van die filmiese aanbieding. ’n Voorheen oënskynlik koherente en natuurlike aanbieding, verseël in die genormaliseerde verwagtinge van die kyker, word dienooreenkomstig herbevestig na ’n tydelike versteuring.

31 Sy stel dit ook: “In place of a hermeneutics we need an erotics of art” (Sontag 1964:10). 

32 Genette verwys na mise en abyme in die Franse nouveau roman: “The famous structure en abyme, not long ago so prized by the ’new novel’ of the 1960’s, is obviously an extreme form of this relationship of analogy, pushed to the limits of identity” (Genette 1980:233; kyk ook Cohn 2012 en McHale 2006 oor mise en abyme). Dickmann se The little crystalline seed: The ontological significance of mise en abyme in post-Heideggerian thought (2019) ondersoek onder meer mise en abyme-strukture in die ontologie van Derrida, Deleuze en Levinas.

33 Enkele voorbeelde: Waarom word Suzy aan die begin van die film onder ’n towerspel geplaas? Het Daniel se hond werklik vir Albert gebyt? Waarom word Albert van sy diens onthef en “vermoor”? Wat is die doelstelling(s) van die heksekolonie? Waarom skyn Helena Markos in die toestand te wees waarin sy verkeer? Wat is die magsdinamika in die heksekolonie? Hoe is dit moontlik dat Suzy vir Markos kon doodmaak? Wat presies is die verhouding tussen Madame Blanc en Miss Tanner? Is enige van die studente betrokke by die heksekolonie? 

34 In die inleiding is verwys na die “groter” narratief waarin Suspiria ingebed is wanneer die ander twee films van die trilogie in gedagte gehou word. Hierdie twee films verskaf veel duideliker toeligting oor die heksekolonie.

35 Professor Milius verteenwoordig moontlik ’n uitsondering, hoewel sy invalshoek by benadering in ’n manlike wetenskapsdiskoers gesetel is. 

36 So ’n interpretasie word van meet af aan redelik sterk deur die film bevestig: Suzy is ’n baie eiesinnige karakter en selfs Miss Tanner blyk daardeur beïndruk te wees (hoewel haar tersyde opmerking moontlik ook ironies bedoel kan wees): “I had no idea you were so strong-willed. I see that when you make up your mind about something, nothing will change it for you … my compliments” (25.40).

37 Heller-Nicholas (2015, loc 804, 812, 819) interpreteer die film onder andere vanuit ’n feministiese perspektief deur onder meer die agtergrondsteminleiding (as poging tot diskursiewe manlike beheer met die visuele (en ander) stemme van vroue te kontrasteer. 

38 Die komplekse interaksie tussen affektiewe indompeling in die filmbelewenis en die bewuswording van die film as konstruksie (wat dus eerder ’n vervreemding tydens die kykproses impliseer) kan nie hier bespreek word nie. Dit sou enersyds die rol van Unheimlichkeit moes betrek, wat juis affektief ervaar word, asook die film se afwisseling tussen beklemtoning van narratief (selde) en eksperimentering met beeld en klink (dikwels) in ag moes neem.

39 Peter Strickland se Berberian sound studio (2012) verteenwoordig hier ’n interessante teenhanger deurdat dit as hommage aan die Italiaanse gialli juis nie op die grafiese en eksplisiete verbeelding van geweld fokus nie, maar wel op die klankbane, oftewel die klanke wat die grusame tonele van hierdie films suggereer. In daardie sin is die film ’n vervreemding van die kyker se visuele verwagtinge, maar daarom juis ’n appèl gerig op die verbeelding om grafiese en eksplisiete tonele in die geestesoog te skep. Nie die tradisionele giallo as sodanig word (visueel) getematiseer nie, maar wel die verwagtinge van die tradisionele kyker van hierdie tipe genrefilms.

40 ’n Tipe différance is hier onmiskenbaar, hoewel LaCapra baie waaksaam is oor die gevare verbonde hieraan met betrekking tot die teoretisering van trauma (kyk bv. 2001:20–2).

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Vergestaltings van trauma in <i>Suspiria</i> (1977) deur Dario Argento appeared first on LitNet.

Vergestaltings van trauma in Suspiria (2018) deur Luca Guadagnino

$
0
0

Vergestaltings van trauma in Suspiria (2018) deur Luca Guadagnino

Cilliers van den Berg, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 17(3)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Waar die eerste deel van hierdie studie op Suspiria (1977) van Dario Argento as vergestalting van strukturele trauma gefokus het, het hierdie bydrae die hervervaardiging van Suspiria (2018) deur Luca Guadagnino as fokus. In die 2018-film is dit nie die simptomatiese uitspeel van strukturele trauma wat op die voorgrond staan nie, maar eerder die tematisering van historiese trauma wat ’n ooglopend belangriker rol speel. Tog word laasgenoemde deur ’n unieke lens gefiltreer, naamlik ’n feministiese invalshoek wat sosiopolitieke onreg op grond van genderkonstrukte binne die patriargale bestel identifiseer. Guadagnino se weergawe maak verskeie aanpassings aan die historiese kontekstualisering en narratief van Suspiria (1977) ten einde hierdie elemente uitvoerig daar te stel. Dit beteken egter dat die verhouding tussen strukturele en historiese trauma, oftewel die kartering van die een op die ander, teoreties duideliker omskryf moet word. Met verwysing na LaCapra beteken die kartering van historiese op strukturele trauma dat die onkenbaarheid van die betrokke trauma se historiese uniekheid tot fetisj gesublimeer en die gevolglike implikasies daarvan veruniverseel word. Omgekeerd verteenwoordig die kartering van universele op historiese trauma die standpunt dat die aanspreek en verwerking van die historiese trauma en die historiese omstandighede wat daartoe gelei het, per implikasie ook die ontologiese gebrokenheid van die wêreld tot heling sal bring. Dít lei dikwels tot die skep van ’n meesternarratief, wat ongelukkige gevolge mag inhou, aangesien persoonlike traumas verdring kan word in die skep van één narratief, wat uit die staanspoor tot mislukking verdoem is. Hierdie struktuur is ook in Suspiria (2018) aanwesig: die persoonlike trauma van verlies teen die agtergrond van die Holocaust word deur ’n kollektiewe narratief van gender-onreg gesubsumeer. In soverre is die hervervaardiging enersyds wel ’n vergestalting van historiese trauma, maar andersyds ’n toonbeeld van die etiese komplikasies wat spruit uit die interaksie tussen die twee tipes trauma.

Trefwoorde: diëgese; feminisme; gender; Luca Guadagnino; historiese trauma; Dominick LaCapra; strukturele trauma; Suspiria

 

Abstract 

Figurations of trauma in Luca Guadagnino’s Suspiria (2018) 

The first instalment of this two-part analysis of Suspiria and its 2018 remake focused mainly on the original and iconic horror film directed by Italian film director Dario Argento. The 1977 version of Suspiria was presented as a cinematic illustration of trauma, specifically the dynamics of structural trauma as this concept is explicated by historiographer and theorist Dominick LaCapra. LaCapra distinguishes between two manifestations of, or rather two perspectives on, trauma, with emphases on its structural and historical nature respectively. The former endorses an ontological lack that determines human existence and that establishes the existential victimhood of all individuals. Confronted by the “thrownness of being” one might or might not become aware of what this implies, namely that narratives which are presumed to be meaningful merely mask an existence defined by inherent and meaningless absence. The latter term refers to historical events that can be established with reference to historical dates and geographical location and that usually have apparent perpetrators and victims, or at least identifiable causes. The movement that takes place between the various diegetic levels of Argento’s Suspiria and which Genette would describe as narratological metalepsis exposes the artificiality of the film’s diegetic worlds – this was presented as an indirect sign of structural trauma, in that performing the inability to suture meaning as a basis from which to establish the integrity of a meaningful narrative suggests a structural lack and therefore also structural trauma.

The 2018 remake of Suspiria follows another itinerary in that it does not focus on structural trauma, but rather on the specifics of historical trauma, as the memory of and coming to terms with the Holocaust play an important part in the narrative of the film. Luca Guadagnino became famous as a director of renowned art films, but decided to remake Argento’s classic as a modern hommage to the original horror film. He changed the story of the protagonist, Susie Bannion, who in his version does not merely become the victim of a coven of witches in accordance with the original version. Guadagnino’s Susie develops into the true and only incarnation of Mother Suspiriorum, to take up the position as undisputed head of the Berlin coven towards the end of the film. With regard to the cinematography, direction and soundtrack of the film, an obvious discrepancy between the diegetic levels (which according to the argument presented in part one of the study is an indication of structural trauma) is minimal, as all of these elements resonate with one another in a meaningful way – either in terms of narrative drive or of symbolic meaning. Those elements which might indicate a meta-awareness in the film with regard to its own status as an aesthetic construct would be discernible only to those viewers who grasp various references to the cinematic tradition of the 1970s.

The relative absence of discernible metalepsis, which would have denounced the superficiality and constructedness of the film’s narrative meaning, is offset by the presence of the Holocaust in the film. Not only is this a motif in the background of the 1977 Berlin setting (as part of the discourse on Vergangenheitsbewältigung), but one of the seminal characters of the narrative, Victor Klemperer, is a victim of this collective trauma. Klemperer, a practising psychologist, was unable to save his wife, Anke, during the war and has been racked by feelings of guilt ever since. He has devoted a part of his life to the memory of his wife, even though he has no certainty as to the details of her passing during the war. His regular visits to a dacha in East Berlin are his version of vigils for Anke. Although this/his experience of historical trauma is presented in the film, the narrative structure of Suspiria twists this around: The story of Klemperer and his wife is subsumed by the story of Susie and the coven of witches that she represents. The Holocaust is not the only historical injustice in the film, as the main focus throughout the narrative firmly remains the question of gender: the role of women within patriarchal structures that exemplify a long tradition of exploiting them and doing them great injustice.

Women play the most important part(s) in the film: Not only does the main narrative follow the development of the protagonist, Susie, from shy novice to powerful head of a coven of witches, but most of the main characters are women. Even the character of Victor Klemperer, a figurehead for masculine rationality throughout the film, is played by actress Tilda Swinton. The impact of the war and the desperate circumstances the women/witches experienced are alluded to in various ways, which also suggests that the notion of witch is not meant only to have narrative pull, but should also be seen as a symbolic indicator of strong-willed women who often found, and find, themselves in conflict with a world determined by patriarchal structures. As the narrative of the film unfolds, the trauma of Klemperer, i.e. the loss of his wife and his subsequent feelings of guilt, are projected on to the grand historical narrative of women as the victims of men and/or patriarchy. His personal trauma seems to fade against this narrative of gender injustice. Because Klemperer not only failed to save his wife, but as a psychologist continues to diagnose and downplay the symptoms of his female patients from a masculine frame of reference, he is judged by the witches to be perpetuating a system of injustice. The result is that his trauma is subsumed by the greater issue – a fact that is symbolically represented when Susie wipes Klemperer’s memory clean at the very end of the film. His story and identity fade, as the story of the witches and the issue of gender injustice will remain. 

With reference to LaCapra’s distinction between structural and historical trauma the narrative of the film maps one trauma on another as the uniqueness of historical trauma disappears in the general notion of gender inequality. The witches perpetuate a narrative of gender injustice in the face of structural trauma, a narrative that subsequently also overshadows the individual memories related to personal trauma. The remake of Suspiria explores the potential dangers of the ways in which historical traumas are negotiated. In that sense the film is not only a remake of the horror classic from 1977, but also a thematic companion piece in its exploration of historical trauma, even as the latter represents the counterpart to structural trauma. 

Keywords: diegesis; feminism; gender; Luca Guadagnino; historical trauma; Dominick LaCapra; Suspiria

 

1. Inleiding 

I hope that I don’t come across as exploitative […] But really, this is a question for you. Do you find it exploitative? (Guadagnino in Chen 2018).

In die eerste gedeelte van hierdie studie is Dario Argento se Suspiria (1977) deur die lens van Dominick LaCapra se begrip strukturele trauma ontleed. LaCapra maak in sy teoretisering onderskeid tussen strukturele trauma, wat fokus op trauma as ontologiese gegewe, en historiese trauma, wat die unieke, historiese kontoere van trauma, beide as unieke belewenis en as historiese vergestalting, verteenwoordig. Aangesien ’n tematisering van historiese trauma in die 1977-weergawe van die film afwesig is, is volstaan by ’n beskrywing en ontleding van die surplusbetekenis onderliggend aan die onderskeie diëgetiese vlakke, wat noodwendig ’n metavlak van diëgese impliseer. Laasgenoemde is geïdentifiseer as die feilbare voorwaarde vir die bestendiging van betekenisgewing en is daarom verder gedui as simptomatiese teken van die performatiewe uitspeel van strukturele trauma. In hierdie tweede gedeelte van die studie verskuif die fokus na die 2018-hervervaardiging van Suspiria deur die Italiaanse regisseur Luca Guadagnino. Hoewel enkele tekens van strukturele trauma in terme van die film se diëgese bespeurbaar is, staan historiese trauma, veral soos verteenwoordig deur individuele ervarings tydens die Tweede Wêreldoorlog, op die voorgrond.

Guadagnino bring egter sy vergestalting van historiese trauma met ’n alternatiewe motief in die film in verband, naamlik die tematisering van feministiese genderkonstrukte, wat die narratief van sy hervervaardiging rig. In Suspiria (2018) kom ’n persoonlike trauma van verlies duidelik uit die verf, maar word net weer oorskadu deur die geskiedenis en tradisie van sosiopolitieke onreg, wat die posisie van die vrou in ’n patriargale wêreld tipeer. Laasgenoemde word uiteindelik die lens waardeur die omgaan met die historiese trauma van die Holocaust gefilter word. Om hierdie kartering van historiese uniekheid op ’n gewaande universele struktuur te verstaan, word ’n verdere teoretisering van die verhouding tussen die twee tipes trauma nodig. In soverre bied die onderskeie weergawes van Suspiria ’n ander vergestalting van trauma, met veral die Guadagnino-hervervaardiging wat die problematiese interaksie tussen die twee konseptualiserings van die begrip ondersoek.

 

2. Die verhouding tussen historiese en strukturele trauma 

Historiese trauma is in die eerste gedeelte van hierdie studie as die teenhanger van LaCapra se definisie van strukturele trauma gedui: Dit verwys na die historiese uniekheid van ’n individu of groep se enkelvoudige belewenis, hoewel meer onlangse benaderings ook kontinue historiese strukture, wat as kontekstuele oorsake van geïnstitusionaliseerde onreg geld, hierby betrek.1 Waar ’n dader of ten minste ’n spesifieke agentskap as oorsaak vir strukturele trauma nie aangedui kán word nie, is dit in die geval van historiese trauma anders. Agentskap is hier wel deeglik identifiseerbaar, selfs al is dit dikwels ambivalent weens ’n problematiese konfigurasie van aktansiële posisies (wat daders, slagoffers en getuies insluit). Aangesien die twee tipes trauma egter onmiskenbaar twee onlosmaaklike sye van dieselfde teoretiese munt verteenwoordig, is dit belangrik om die verhouding tussen hulle van nader te beskou. 

LaCapra (2001:43–85) is huiwerig om die presiese aard van die verhouding tussen strukturele en historiese trauma te beskryf, juis weens die historiese veranderlikes wat die uniekheid van die verhouding tussen die twee bepaal:

One way to formulate the problem of specificity in analysis and criticism is in terms of the need to explore the problematic relation between absence and loss (or lack) as well as between structural and historical trauma without simply collapsing the two or reducing one to the other […] One may even argue that it is ethically and politically dubious to believe that one can overcome or transcend structural trauma or constitutive absence to achieve full intactness, wholeness, or communal identity and that attempts at transcendence or salvation may lead to the demonization and scapegoating of those on whom unavoidable anxiety is projected. But historical trauma and losses may conceivably be avoided and their legacies to some viable extent worked through both in order to allow a less self-deceptive confrontation with transhistorical, structural trauma and in order to further historical, social, and political specificity, including the elaboration of more desirable social and political institutions and practices. (84)

Kortom vind daar ’n komplekse interaksie tussen strukturele en historiese trauma plaas, afhangende van die unieke historiese belewenis van trauma en die unieke, historiese konseptualisering en narrativering van strukturele trauma as universele gegewe. Dat een dimensie van trauma dikwels as klankbord vir die ander dien, is gewoon eie aan die aard van trauma as sodanig, maar tog waarsku LaCapra teen die gelykstelling van die een met die ander (kyk bv. 2001:46–8, 52, 56–7, 64–5, 77, 80–1). Sinvolle omgaan met trauma beteken vervolgens die vermoë om tussen die implikasies wat deur albei tipes verteenwoordig word te onderskei. 

Die kartering van historiese op strukturele trauma veronderstel ’n fundamentele wantroue in enige pogings tot die uitdrukking van en (terapeutiese) omgaan met unieke, traumatiese gebeurtenisse. Die onkenbaarheid van die trauma se historiese uniekheid word tot fetisj gesublimeer en die gevolglike implikasies daarvan veruniverseel – wat verreikende gevolge vir die potensiële verwerking daarvan inhou. Die trauma, wat duidelik die gevolg van ’n identifiseerbare (historiese) agent is,2 se sosiopolitieke gegewens word na ’n geïmpliseerde ontologiese struktuur getransponeer, wat beteken dat die onreg, soos behorende tot ’n spesifieke tyd en plek, per definisie nie in werklikheid gekonfronteer of verwerk kán word nie (kyk Eisenstein 2003:53, LaCapra 2001:21–5, 68–72). Heling word telkens weer op basis van différance uitgestel en die simptomatologie van trauma performatief uitgespeel, soos wat die reikhalsende Achilles telkens weer poog om die skildpad in te haal, maar dit nooit kan doen nie. Die trauma word sodoende vergestalting van die sublieme, met daadwerklike pragmatiese pogings om posttraumatiese omstandighede te verbeter, wat op skouspelagtige wyse genegeer word, of gewoon in die slag bly (kyk LaCapra 2001:80).3 Indien egter strukturele op historiese trauma gekarteer word, word van die veronderstelling uitgegaan dat die aanspreek en verwerking van die historiese trauma en die historiese omstandighede wat daartoe gelei het, per implikasie ook die ontologiese gebrokenheid van die wêreld tot heling sal bring. Op politieke gebied, waar dit dikwels gaan oor die kollektiewe omgaan met moeilike verledes, word as gevolg hiervan dikwels ’n ideologiese meesternarratief geskep4 wat in ekstreme omstandighede lei tot fundamentalistiese oortuigings en optrede, wat moontlik tot groot vernietiging kan lei (kyk LaCapra 2001:78, 82; Eisenstein 2013:128, 141). Die diskrepansie tussen geloof en vertroue in die potensiële reikwydte van politieke besluitneming enersyds en die werklikheid van ’n ontologiese afwesigheid andersyds, word misken, met die gevolg dat soms gepoog word om die gaping wat as gevolg daarvan ontstaan, met geweld te sluit. Om terug te verwys na Argento se Suspiria: Die kartering van strukturele op historiese trauma sou die fokus op “broken minds” veronderstel (dus ’n geestestoestand wat met die regte psigiatriese behandeling genees kan word); terwyl die omgekeerde vervolgens die fokus op “broken mirrors” verteenwoordig (’n magiese toestand van gebrokenheid, wat selfs met die fisiese heelmaak van die spieël niks van die ongeluk daardeur veroorsaak kan temper nie).5

Watter vorm die interaksie tussen strukturele en historiese trauma ook al mag aanneem, verteenwoordig en bly dit twee dimensies van een verskynsel. Die tydsdimensie en kontekstuele aspekte verbonde daarmee maak hierdie interaksie telkens weer onvoorspelbaar – wat egter elke keer opnuut die appèl rig om op eties verantwoordbare wyse die onderskeid tussen die twee te maak. Die vraag is hoe hierdie interaksie in Suspiria deur Luca Guadagnino uitspeel.

 

3. Suspiria (2018): Luca Guadagnino

’n Moontlike hervervaardiging van Dario Argento se Suspiria (1977) is vir dekades lank as die pleeg van heiligskennis geag. Nie net word dit as die meesterstuk van een van Italië se belangrikste grufilmregisseurs beskou nie, maar die invloed daarvan op menige ander filmmaker en tallose intertekstuele verwysings daarna het Suspiria óf as klassieke werk óf as kultusfilm gekanoniseer, afhangende van kritici se houding jeens sogenaamde genrefilms. Nicolas Winding Refn se The neon demon (2016) en Gaspar Noé se Climax (2018) geld as net twee onlangse voorbeelde, waarin eksplisiet na Suspiria verwys word, of die stilistiese eksperimentering daarvan merkbare spore gelaat het.6 Groot was die verbasing toe ’n liefling van die kunsfilmkringloop, Luca Guadagnino, aandui dat sy hervervaardiging van Suspiria in 2018 vrygestel sou word. Veral bekend vir sy “Desire”-trilogie, wat bestaan uit I am love (2009), A bigger splash (2015) en Call me by your name (2017),7 is Guadagnino, soos befonds deur Amazon Studios, as onverwagte keuse vir hierdie produksie beskou, hoewel hy die regte vir die maak van die film reeds ’n aantal jare tevore gekoop het. Vir die Italiaanse regisseur was die generiese stroomverlegging van romantiese dramafilm na die grufilmgenre egter minder opvallend, aangesien hy Argento se Suspiria as een van die belangrikste filmervarings van sy kinderjare beskryf. Reeds hier is ook sy droom gebore om sy eie weergawe te verfilm:

“I was 14. It was a mid-week evening, and the movie was being played on Italian International TV,” Guadagnino said, reflecting on that life-changing hour. “It was a magic screening that I gave the pleasure of to myself. I saw it alone, which is almost a forbidden thing to do, and I remember watching that film and being completely shocked by the freedom of the film, by its beauty, and by its aggression to the senses. I wanted to enact again this emotion. It became a part of my being, wanting to make this film.” (Baila 2018)

Hy beskou sy Suspiria daarom ook nie as ’n hervervaardiging nie, maar eerder as ’n hommage aan die oorspronklike weergawe: “I was just a boy who had seen a movie that made him what he became. So that’s how I am approaching it: a homage to the incredible, powerful emotion I felt when I saw it” (Collinson 2018; kyk ook Fendi 2018).8 In samewerking met sy muse, Tilda Swinton, en met Dakota Johnson in die hoofrol, skep Guadagnino ’n Suspiria wat tydsgewys een uur langer as die oorspronklike film is, die verhaal van Susie Bannion op sy kop draai en die temas van vrouwees en moederskap op die voorgrond plaas. Na bewering was Argento se reaksie enigsins gedemp (“[I]t betrayed the spirit of the original film […]” – Nordine 2019), maar Suspiria 2018 is desnieteenstaande op verskeie vlakke ’n insiggewende teenhanger vir Argento se operette van beeld, klank en kleur. 

Met betrekking tot hervervaardigings is die titel van Roche (2014) se studie, Making and remaking horror in the 1970s and 2000s: Why don’t they do it like they used to?, kenmerkend van ’n bepaalde blik op die hervervaardiging van klassieke grufilms uit die genoemde era: “The main idea behind this book is quite simple: Why are the American blockbuster horror remakes of the 2000s less ‘disturbing’ than the independent American horror movies of the 1970s?”9 Die antwoord op hierdie vraag impliseer ’n komplekse verwewing van verskeie elemente, wat strek vanaf kodifisering en kommodifisering van eertydse transgressiewe benaderings in/tot film, tot outomatisering van kykers se generiese verwagtinge – iets wat egter nie in hierdie betoog onder die loep geneem kan word nie.10 Hoewel daar onder andere verskillende tipologieë van hervervaardigings bestaan (kyk bv. Leitch 2002:38, 54; Grindstaff 2002:276, Kelleter 2012:28) en hierdie films dus vanuit verskeie oogpunte benader kan word, is die hervervaardiging van narratiewe ’n baie ou gebruik en beskik dit oor ’n lang tradisie wat terugstrek tot die aanvang van die filmmedium as sodanig (kyk bv. Harney 2002:65; Forrest 2002:89; Roth 2002:225; Klein en Palmer 2016:9). Veral binne ’n poststrukturalistiese raamwerk stel hervervaardiging ernstige vrae oor die oorspronklikheid van die film as kunswerk, ingebed soos wat dit is in spesifieke genres en toegespits op die onderskeie generiese verwagtingshorisonne van die kykerpubliek (kyk o.a. Leitch 2002:40; Harney 2002:66–7; Grindstaff 2002:275; Klein en Palmer 2016:1, 2, 4–5). Die benadering wat gewoonlik vir die ontleding van hervervaardigings gebruik word, is om die konstante gegewes van die verskeie weergawes as gemeenskaplike noemers te gebruik ten einde die verandering in die “replisering(s)” in terme van kontekstuele, dit is kulturele en/of historiese veranderinge, te ontleed (kyk o.a. Kelleter 2012:28). Die argumente wat volg, stel dit egter nie ten doel om Guadagnino se herverwerking van Argento se Suspiria in terme van historiese en kulture konteks te beskryf nie, maar eerder om dit in terme van die betrokke films se benaderings tot die daarstelling van trauma te belig. 

3.1 Verhaalgegewe 

Guadagnino se Suspiria verwerk die narratief van die Argento-weergawe op veral drie wyses: Eerstens word die verhaal van Susie Bannion omvattend binne die historiese konteks waarin dit afspeel gekontekstualiseer; tweedens is die trajek van Susie se ontwikkeling merkbaar anders as dié van die protagonis van die 1977-weergawe; en laastens is die verhaal van nog ’n karakter, Josef Klemperer, van seminale belang vir die struktuur en tematiese betekenis van die film. Guadagnino plaas sy film se handeling vierkantig binne die “Deutscher Herbst” van 1977 – ’n historiese tydsgleuf wat simptomaties van tektoniese verskuiwings binne die (Wes-) Duitse sosiopolitiek was, maar natuurlik ook ooreenstem met die jaar waarin Argento sy Suspiria vrygestel het. Die Duitse Herfs is gekenmerk deur terroristiese aksies deur die Rote Armee Fraktion (RAF) of groepe wat met hulle geassosieer is en het onder meer die moord op die Wes-Duitse prokureur-generaal, Siegfried Buback, die ontvoering van en moord op die industrialis en voormalige SS-offisier Hans Martin Schleyer, die skaking van die Lufthansa-vlug 181 deur vier lede van die Volksfront zur Befreiung Palästinas, en ’n menigte proteste en betogings, bomontploffings en die konfrontering met die moeilike Wes-Duitse oorlogsverlede ingesluit. Hierdie gegewens is ’n immerteenwoordige motief in die film wat dikwels op die agtergrond en gereeld ook in die vorm van nuusberigte via televisie- en radio-uitsendings deel van die alledaagse diëgetiese wêreld van die karakters uitmaak (kyk Gross 2018; A. Jones 2018; Marcks 2018). Hierdie grootskaalse sosiale onrus resoneer dan ook met die unieke omstandighede waarin Susie se narratief binne die konteks van die Markos Tanzgruppe ontvou. 

In die 2018-Suspiria is Susie Bannion ’n begaafde danseres wat haar baie konserwatiewe Mennonitiese huisgesin in Ohio verlaat om ’n oudisie by die bekende Markos Tanzgruppe af te lê – ’n ideaal van Susie, aangesien haar heldeverering vir die leier en choreograaf van hierdie moderne dansgeselskap, madame Blanc, en haar onverklaarbare jare lange begeerte om na Wes-Berlyn te gaan, hierdie besoek noodsaak. Reeds tydens haar oudisie blyk Susie oor ’n merkwaardige en besonderse natuurlike talent te beskik, iets wat deur die senior lede en bestuur van die geselskap opgemerk word, selfs al is hulle nie self by die oudisie teenwoordig nie. Die rede hiervoor is dat die dansgeselskap ’n heksekolonie is wat op ’n bonatuurlike wyse sensitief vir Susie se ongewone talent is. Susie is suksesvol, word vinnig deel van die geselskap en neem as ’t ware die plek van Patricia in, ’n danseres wat vroeër onder vreemde omstandighede verdwyn het. Uit die staanspoor word die dinamika van die heksekolonie duidelik: Hoewel Helena Markos aanvanklik nie sigbaar in persoon as karakter verskyn nie, blyk daar ’n magspel tussen haar en madame Blanc te wees. Markos is tans be-liggaam in ’n afgetakelde menslike gedaante wat lank nie meer volhoubaar is nie en daarom moet ’n ritueel uitgevoer word om haar bewussyn na ’n nuwe liggaam te laat migreer – Patricia was ’n vroeëre kandidaat, maar die ritueel was helaas onsuksesvol. Blanc betwyfel Markos se status as ’n inkarnasie van Moeder Suspiriorum en daarom word ’n stemming gehou oor wie voortaan die leierskap van die kolonie en dansgeselskap sal behartig. Blanc verloor, en daarom moet daar vir Markos, opnuut as leier bevestig, ’n nuwe gasheerliggaam gevind word. 

Susie blyk ’n ideale kandidaat te wees, veral met die besondere verhouding tussen haar en Blanc wat vinnig ontwikkel. Dit neem onmiskenbaar die vorm van ’n moeder-dogter-verhouding aan, hoewel daar selfs ’n onderliggende lesbiese motief in enkele tonele gesuggereer word. Susie se formidabele talent word grafies verbeeld wanneer sy haarself nomineer om die hoofrol in die dansgeselskap se bekendste dansnommer, “Volk”, te dans. Nadat Olga, een van die dansers, ’n uitbarsting het en wegstorm, dans Susie die moeilike rol, terwyl Olga se liggaam, intussen deur die hekse gelok na ’n kamer vol spieëls onder die gebou, op misterieuse wyse deur Susie se heftige bewegings verwring word – die skaars nog lewende Olga word later deur die hekse weggesleep. Ter voorbereiding van Susie vir die ritueel word sy vreemde drome deur die hekse ingegee, maar ook sy blyk met verloop van tyd deeglik bewus te word van die onderliggende werkinge van die dansgeselskap. Intussen doen Sara, Susie se aanvanklike vriendin en ook ’n stem van rede, nadere ondersoek na die verdwyning van Patricia en Olga. Dit spruit veral uit die feit dat sy in dié verband genader is deur dr. Josef Klemperer, Patricia se sielkundige. Soos wat Susie met die afrigting van Blanc al hoe meer in haar vertolking van “Volk” ingroei, so vermoed Patricia ook dat eersgenoemde met “hulle” begin saamwerk – sy ontdek trouens ook later die hekse se geheime ruimtes onder die gebou. Die geselskap se vertolking van “Volk” lei die laaste bedrywe van die film in: Met die aanvang van die komplekse dansuitvoering gaan Sara weer na die geheime heksekamers, waar sy Olga en Patricia, nog lewend, ontdek. ’n Ontstemmende teenwoordigheid laat haar op die vlug slaan, met die gevolg dat sy haar been breek. Sy word deur die hekse ontdek, haar beenbreuk word skynbaar vir die oomblik herstel, en onder ’n beswyming sluit sy by die dansuitvoering aan. Sy word egter weer beseer en die uitvoering moet gestaak word.

Die voorbereiding vir die ritueel blyk afgehandel te wees en na ’n aand saam uit gaan Susie na die kelder van die gebou, waar die ritueel reeds ’n aanvang geneem het. Dr. Klemperer is deur die hekse as onwillige getuie van die ritueel uitverkies en moet nakend en onder dwang die atavistiese dansrituele besigtig. Susie is geensins verras deur die gebeure nie en blyk presies te weet wat hier afspeel. Na ’n konfrontasie tussen Blanc en Helena Markos word eersgenoemde bykans deur Markos onthoof, hoewel Blanc tog bewegingloos oorleef. Nadat Markos Susie beveel om haar innerlik leeg te maak, roep Susie ’n inkarnasie van die dood op, bevestig dat sy Moeder Suspiriorum is en maak Markos en talle van die hekse dood. Ook die ontweide Patricia en Sara word op hulle eie versoek deur Susie/Suspiriorum gedood. Die grafiese toneel eindig met Susie wat die dansers opdrag gee om verder te dans.

Die epiloog van die film bestaan uit ’n besoek van Susie aan Klemperer, wie se verhaal ’n belangrike rol in die film speel. Klemperer is reeds in sy tagtigerjare, maar word steeds gekwel deur die verlies van sy vrou, Anke, tydens die Tweede Wêreldoorlog – daar word gesuggereer dat hy destyds nie genoeg gedoen het om sy vrou betyds uit Berlyn te red nie. Hy besoek dikwels sy datsja in Oos-Berlyn, waar die buitemuur van die huisie ’n hartjie vertoon wat as merker van sy nimmereindigende liefde vir (en waarskynlik ook skuldgevoelens jeens) Anke figureer. Klemperer is vroeg reeds bewus van Patricia se vermoedens van heksery in die dansgeselskap, maar poog om dit rasioneel te verklaar as ’n vorm van transferensie. Hy besoek selfs die polisie, wat sonder sukses ’n besoek by die dansskool aflê, maar word uiteindelik deur die hekse tot gedwonge getuie van hulle ritueel verkies. Hy word trouens na die ritueel gelok deur ’n illusie van sy voormalige vrou wat hom by die datsja inwag en hom dan terugneem na die hekse se tuiste. Susie besoek Klemperer na afloop van die vorige aand se ritueel, waartydens sy haar wording as Moeder Suspiriorum volbring het, en vra om verskoning vir dit wat haar “dogters” gedoen het. Sy lig hom in oor wat in werklikheid met sy vrou, Anke, gebeur het, naamlik dat sy in 1943 in Theresienstadt gesterf het. Ter afsluiting raak sy Klemperer se voorhoof aan en sê: “Of Anke Meier, of Patricia Hingle, of Sara Sims, of Susanna Banion, of all the woman of your undoing, every memory will vanish. They will melt away in the sun and be gone. Wir brauchen Schuld, Doktor, und Scham, aber nicht deine” (2:18:45). Daarmee word sy geheue aan hierdie vroue uitgewis. Die slottoneel van die film skyn in die hede af te speel: Die kamera fokus op Klemperer se datsja, terwyl verskeie mense verbybeweeg, van wie een op ’n slimfoon gesels. Die kamera fokus op die hartjie teen die muur – die merker en motief van Josef en Anke Klemperer se liefde.

3.2 Diëgetiese vlakke 

Aangesien die implisering van metadiëgetiese vlakke deur die diëgetiese surplus (in deel een van hierdie betoog) gedien het as teoretiese invalshoek om Argento se Suspiria as ’n illustrasie van LaCapriaanse strukturele trauma te tipeer, is met reg die vraag te stel in hoeverre hierdie benadering eweneens met vrug vir die ontleding van Guadagnino se weergawe aangewend kan word. Dit blyk gou dat die tematiese fokus van die 2018-weergawe ’n ander interpretasie verg, deurdat diëgetiese surplus minder vervreemdend op die voorgrond geskuif word en die interpretasie daarvan (as tekenend van die epistemologiese leemtes wat strukturele trauma veronderstel) verder ook veel duideliker deur die gemanipuleerde verwagtingshorison van die kyker gerig word. Kortom staan die tematisering van die Vrou, in al die geledinge daarvan, tot so ’n mate op die voorgrond dat dit die produktiwiteit van enige ander analitiese invalshoek oorskadu. Dit beteken egter nie dat die film nie wel op ’n bepaalde konseptualisering van trauma gekarteer kan word nie – in hierdie geval egter ’n historiese trauma, soos wat dit deur LaCapra geproblematiseer word. 

Waar in Argento se film enersyds die wêreld van die hekse (“broken mirrors”) en andersyds die wêreld van die alledaagse werklikheid (“broken minds”) op diëgetiese vlak naas mekaar gestel word en slegs enkele karakters in staat is om tussen die onderskeie wêrelde te beweeg, is die onderskeidende grense in die 2018-weergawe veel moeiliker vas te stel. Indien ’n grens wel bestaan, is dit uitermate poreus, aangesien hierdie wêrelde op verskeie vlakke met mekaar vervloei. Verskeie voorbeelde hiervan kan aangevoer word, deurdat heelwat gebeure óf van meets af aan die towermagte van die heksekolonie toegeskryf kan word of daardeur beïnvloed word, óf ooreenkomste tussen magiese elemente en algemene gebruike aangetoon word: Polisie-offisiere word onder ’n towerspel geplaas en emaskulerend tot bespotting gemaak;11 dansbewegings het direkte impak op die destruktiewe verwringing van liggame;12 estetiese ervarings word ’n vorm van magiese belewenis;13 persoonlike herinneringe aan geliefdes word illusies soos ingegee deur die hekse;14 die individu se subjektiewe droomtaal word niks meer as die boodskappe van hekse nie;15 dit wat as psigologiese transferensie beskryf word, blyk in werklikheid die magie van heksery te wees;16 ervarings op die doodsbed sluit sintuiglike bewuswording van die magiese wêreld van die hekse in;17 rituele doodsbegeleiding skyn in die konteks van die film min van die hekse se rituele te verskil;18 skynbaar vrye keuses blyk ’n noodlotsgegewe te wees;19 ens. Bloot weens die twee wêrelde se vervlegting met mekaar op verhaalvlak, kan skaars van twee afsonderlike, diëgetiese wêrelde gepraat word – die wêreld van hierdie Suspiria is ’n wêreld waarin hekse nóú met die alledaagse verweef is.

Hierdie wêrelde vervloei egter nie net op verhaalvlak met mekaar nie; dit resoneer ook tematies met mekaar. Hier bo is aangedui dat die film baie duidelik binne die historiese gegewens van die Duitse Herfs van 1977 gekontekstualiseer is. Die betekenis hiervan strek egter veel verder as ’n blote oriëntasie ten opsigte van historiese spesifisiteit, aangesien dít wat buite die wêreld van die dansgeselskap gebeur, ook in die spanning en struwelinge rondom die magsverhoudings binne die heksekolonie teruggevind kan word (kyk bv. Clapp 2018; Fendi 2018; Francisco 2018).20 Selfs die grootste bydrae wat die heksekolonie as dansgeselskap gemaak het, dit is die produksie van “Volk” te midde van die gebrokenheid van die na-oorlogse Duitsland, was ’n direkte reaksie op en produk van ’n baie spesifieke historiese konteks. Soos wat Blanc dit stel, was “the value of the balance of things” die belangrikste les wat “hulle” (’n persoonlike verwysing wat duidelik wyer strek as net die lede van die heksekolonie) geleer het. In soverre vind die geweld wat die sosiale en politieke veranderinge ontketen ’n teenhanger in die geweld wat die magskonfrontasies tussen die hekse tot gevolg het, veral met verwysing na die rolle wat Blanc, Markos en Susie in hierdie verband speel. Dit gee ook ’n ander dimensie aan die grusame geweld wat die moorde en rituele van die kolonie vergesel – die wêreld daarbuite is allermins minder grusaam of gewelddadig. 

Ook die niediëgetiese elemente rym grootliks met die diëgetiese wêreld van die film. Waar Argento se Suspiria ’n affektiewe filmbelewenis as “cinema of attractions” verteenwoordig, vernaam ten opsigte van die klankbaan en die diëgeties en tematies ongemotiveerde gebruik van primêre kleure, is Guadagnino se weergawe duidelik anders. Die kleurpalet van die kinematografie is veel somberder en verder ook duidelik diëgeties gemotiveerd, met enkele uitsonderings wat met die onwerklikheid van geïntensiveerde of ekstatiese droomtoestande en atavistiese rituele saamhang (kyk bv. Anderson 2018).21 Volgens Guadagnino was die idee juis om intertekstueel aan te sluit by hoe Duitse films van die laat 1970’s daar uitgesien het (Clapp 2018; Crosbie 2018; Luers 2018; A. Jones 2018). Indien ’n kykerspubliek dus op grond hiervan bewus sou word van die film as gekunsteld of gekonstrueerd, sou dit ’n ingeligte kyker moes wees wie se verwagtingshorison op ekstradiëgetiese vlak geprikkel word. Dit is hier waar die moontlike metabewustheid van die film as film, die film as hervervaardiging en die film as deel van ’n filmtradisie geleë is. Só gesien is die 2018-weergawe dan tog net ’n filmiese konstruk, hoewel die geoutomatiseerde interpretasie van die film as hommage haas geen afbreuk doen aan die oortuigende manier waarop die diëgetiese wêrelde die kyker aangebied word nie. Buiten ’n “ingeligte” blik wat die ekstradiëgetiese, intertekstuele verwysings snap, is die verdeling van die film in ses hoofstukke en ’n epiloog die enigste ooglopende duiding van die film as kunsmatige konstruksie (kyk Chen 2018).22

Suspiria is egter ryk aan intertekstuele verwysings, wat meestal inspeel op filmiese tradisie en filmtegniek. Die keuse van aktrises wat die onderskeie rolle van die hekse vertolk, is duidelik Guadagnino se erkenning aan die bydrae wat hierdie aktrises tot die Europese filmtradisie van die 1970’s en vroeë 1980’s gemaak het;23 die mildelike gebruik van filmtegnieke soos die fokus met “split diopters”, waarmee voor- én agtergrond duidelik in fokus gestel word24 en “crash zooms”,25 wat op ’n baie vinnige fokus van die kamera dui, was kenmerkend van baie films van die 1970’s, insluitende die Neuer Deutscher Film (kyk Clapp 2018; Crosbie 2018: Hunt 2018: Marcks 2018). Die keuse van Jessica Harper om die rol van Anke Klemperer te speel, is ’n direkte verwysing na Argento se Suspiria, waarin Harper die rol van Suzy Bannion vertolk het (kyk A. Jones 2018), en by Susie se aankoms by die Wes-Berlynse Pankstraße-stasie is ’n Duitse plakkaat van die film Dämonen duidelik sigbaar – ’n verwysing na die Italiaanse grufilm Dèmoni, waarvan Argento in 1985 die produksieleier was. Die sentrale rol wat moderne dans inhoudelik in die film speel, en veral die uiterlike van en vertolking deur Tilda Swinton se madame Blanc, verwys onmiskenbaar na die seminale vroue in die ontwikkeling van hierdie dansvorm. Die ooglopendste voorbeelde hiervan is Pina Bausch, Martha Graham en Lucinda Childs (kyk Anderson 2018; Heller-Nicholas 2018).26 Laastens dui die naam Josef Klemperer op een van die belangrikste getuies van daaglikse lewe in Nazi-Duitsland en die Tweede Wêreldoorlog, naamlik Victor Klemperer.27 Hoewel hierdie alles potensieel op die diëgese van die film as gemanipuleerde konstruksie dui, is die aard daarvan merkbaar verskillend van wat dit in Argento se Suspiria is: Ter interpretasie van Guadagnino se weergawe moet die fokus nie tussen diëgetiese vlakke skuif nie, maar eerder na die inhoudelike tematisering van die Vrou. 

3.3 (Posisie van) die Vrou as tema

Hoewel verskeie temas in Suspiria (2018) aangesny word, neem Guadagnino se problematisering van die Vrou se historiese posisie binne die patriargie tematies en verhaalmatig ’n sentrale stelling in. Die meeste van die film se newetemas spruit trouens uit hierdie genderkwessie voort, of verteenwoordig geledinge daarvan, wat mekaar wedersyds belig, met die gevolg dat ’n komplekse netwerk van betekenis geskep word (kyk bv. Heller-Nicholas 2018). Die film se ooglopende fokus op vroue is voor die hand liggend, deurdat bykans nét vrouekarakters in die film verskyn. Die enigste uitsonderings is die twee polisie-offisiere, na wie reeds verwys is (as duidelike verteenwoordigers van patriargale mag en wetstoepassing, ook van die Lacaniaanse “wet van die vader”), en Klemperer, wie se karakter egter die tema van die Vrou verder kompliseer. Hoewel Klemperer duidelik die stereotiepe opvatting van manlike rede veronderstel, word die karakter deur ’n vrou vertolk, naamlik Tilda Swinton, wat selfs met ’n kunspenis uitgedos is (kyk N. Jones 2018; Juzwiak 2018; Hayes 2018). Die komplekse karakter van Klemperer speel tematies ’n seminale rol in die film se tematisering van trauma, en veral die rol van getuienis, maar dit is die ondermyning van sy gender deur die vertolking deur ’n aktrise (oftewel die vertolking van Tilda Swinton as akteur, Lutz Ebersdorf, wat die rol van Josef Klemperer vertolk), wat ook ekstradiëgeties die manlike diskoers uitdaag. Klemperer se pogings om gebeure, meegebring en direk veroorsaak deur die magiese ingryping van die hekse, te rasionaliseer, maak verder van hom/haar ’n maklike teiken in hierdie verband (kyk Baila 2018).28 Maar dit is ook sy onvermoë om sy vrou, Anke, tydens die Tweede Wêreldoorlog te red wat die man se tradisionele rol as beskermer bevraagteken. In Suspiria is die vroue as hekse, al dan nie, op hulself aangewese.

Suspiria is in die eerste instansie die verhaal van ’n vrou se wording, naamlik dié van Susie Bannion se ontwikkeling van betreklik naïewe meisie tot Moeder Suspiriorum, ’n vrou wat selfs die beliggaming van die dood kan oproep om haar wil uit te voer. Só gesien is die ontvouing van haar narratief die verhaal van ’n vrouekarakter se bemagtiging, ten spyte van enige historiese en ander kontekstuele beperkinge wat haar sou kon kniehalter. Dat sy ’n magtige heks is/word, beklemtoon gewoon die plofkrag van die feministiese mag wat sy nog altyd beliggaam het en uiteindelik in Wes-Berlyn tot volle uitvoering bring. Susie se hergeboorte, wat tydens die laaste hoofstuk op eksperimentele wyse as ritueel gevisualiseer word, was nog altyd vooruit bestem gewees. Die volvoering van haar wedergeboorte as Suspiriorum word in ’n bykans surreële beeld emblematies voorgestel, deurdat sy haar borskas met haar twee hande oopskeur om sodoende haar kloppende hart te midde van talle sugte wat hoorbaar word te ontbloot (2:07:47). Dit is nie net ’n teken van mag, ’n opneem van haar mantel as die Moeder van Sugte nie, maar ironies genoeg ook ’n tere oomblik van blootstelling en aanvaarding.29

Die heksekolonie as sodanig is noodwendig ’n verbintenis van sterk vroue met mekaar, met madame Blanc wat die boegbeeld van estetiese deurbrake in die tradisie van moderne dans word. Binne die wêreld van die film herdefinieer sy met haar toegewydheid aan hierdie kunsvorm die tradisie van na-oorlogse dans,30 maar dit gaan ook verder, deurdat hulle performatiewe kuns direk met die rol en gemeensaamheid van vroue binne ’n patriargale wêreld in verband gebring word.31 Die vraag is egter waarom die heks-begrip gebruik word om hierdie tema te ondersoek. Buiten die film as hervervaardiging van Argento se heksesprokie en die rol van hekse as antagoniste binne die grufilmtradisie deel Guadagnino in verskeie onderhoude sy sentimente hieroor: 

You know, historically, why a woman is a witch? A woman is a witch because she decides to go out in the world and be together with other women, and spend time with them, and enjoy things that are completely related to being a woman, in a group with other women. And then there is a manly law, and patriarchal law, that instead of seeing that as a natural expression of womanhood, decided that was to be indicted and turned into something evil and supernatural – against the law of the Father. So that becomes a witch, who has to be persecuted, and literally wiped out. So I have the utmost sympathy for witches. Because the witches are literally women who are together. And they are not responding to law that is imposed on them. (Tang 2018; kyk ook Anderson 2018; Fendi 2018, Juzwiak 2018). 

Blanc, Markos en hulle heksekolonie is hiervolgens nie inherent boos, soos wat hekse in menige sprokie getipeer word nie, maar eerder die produk van ’n patriargale wet waaraan hulle uitgelewer is en waarteen hulle reageer. Die feit dat hulle wel feilbaar en wreed is, moet dus nie as negatief gesien word nie, maar eerder as Guadagnino se poging om vroulikheid holisties te verbeeld, wat noodwendig ook “negatiewe” of “bose” aspekte insluit (kyk bv. Juzwiak 2018). In die verlengde hiervan word vroue dus ook nie binêr teenoor mans opgestel nie, deurdat dieselfde magsrelasies, politieke konflik en gevolglike kollaterale skade wat die magskonflik van die heksekolonie kenmerk, ook duidelik merkbaar is in die patriargale wêreld daarbuite – nie net ten opsigte van die 1977-tydsgewrig nie, maar veral ook die tydperk van die Tweede Wêreldoorlog. Die heks as vrou en vrou as heks is in hierdie sin nie eenduidig positief of negatief nie, maar juis uiters kompleks – wat maak dat haar uitbeelding in die film aan ’n simplistiese stereotipering ontsnap. Selfs seksualiteit word in die film onthef van ’n man-vrou-binariteit (dus heteronormatiwiteit) Nie net is daar enkele lesbiese suggesties in die film nie (veral tussen Susie en Blanc, maar tog ook tussen Susie en Sara), maar die magie van die dans word deur Susie in verband gebring met ’n animalistiese seksualiteit – volgens haar voorstelling sou dit nié wees soos seks met ’n man nie, maar wel soos diere wat paar (“fuck like animals”). 

Hoewel die atavistiese geskiedenis van die hekse volgens Klemperer ver terugreik (“Patricia wrote about three mothers, lost in time, predating all Christian invention … pre-gods, pre-devil”, 1:26:40),32 word die rol van hierdie vroue wél ook in terme van genderverwagtinge histories gespesifiseer. Sara verduidelik die waarde van die dansgeselskap gedurende die Nazi-tyd deur daarop te wys dat hierdie vroue deur hulle dans juis die opvattings van en heersende verwagtinge jeens vroue ondermyn het, “when the right just wanted women to shut off their minds and keep their uteruses open”. Hoewel die hekse dus wel enersyds tydloos blyk te wees, neem hul reaksie op die patriargale historisering van hulle posisie (deur onder meer fascistiese normatiwiteit) die vorm aan van hulle “anti-estetiese” konseptualisering van moderne dans.33 Dit is veral hier waar die konfigurasie van dans, kuns en die magiese ’n belangrike rol speel: Suspiria se dans is performatiewe kuns, sosiopolitieke en estetiese dissensus en magiese ritueel en towerspel, waarby die kyker as getuie betrek word.34 Dit is die vroulike kreatiwiteit wat geboorte gee aan hierdie moderne dans as ’n feministiese stem wat op magiese wyse die gehoor én filmkyker betrek en as getuie impliseer.35

Moederskap geld as belangrike manifestasie van vrouwees in die film, maar weer eens bestryk die tematisering daarvan in terme van die komplekse verhoudings van die karakters ’n wye spektrum van aspekte: liefde, sorgsaamheid, verantwoordelikheid, mentorskap, skepping en kreatiwiteit, maar ook mag, dominansie, selfgeregtigheid, mededinging en destruktiwiteit.36 Daar is verskeie ma-dogter-verhoudings in die film (Susie en haar ma;37 Susie en madame Blanc;38 en Helena Markos en haar heksekolonie39), maar dit is Susie wat as Moeder Suspiriorum die rol van moederskap emblematies opneem – beide as leidster van die reste van die heksekolonie en as boegbeeld van die Vrou in al haar fasette. Sy word teen die einde van die film, in die kontrasterende tonele van die ritueel van destruksie (en geboorte) enersyds en die rustige gesprek met Klemperer andersyds, bykans ’n Kali-figuur (soos wat Guadagnino self na sy opvatting oor hekse verwys; kyk Anderson 2018) – ’n mitologiese weergawe van die Vrou wat enige historisering in terme van tyd en plek oorstyg.

3.4 Trauma, getuienis en geheue

Die ooglopende vraag wat volg, is hoe die tematisering van die Vrou in Suspiria (2018) met die vergestalting van trauma in verband gebring kan word.

Uit die ontleding van die film se diëgetiese vlakke word dit duidelik dat ’n performatiewe demonstrasie van strukturele trauma nie hier tot dieselfde mate sentraal staan soos wat die geval in die Argento-weergawe is nie. Guadagnino se Suspiria benader trauma duidelik in terme van die spesifieke, historiese konkretisering daarvan, maar pas dit ten slotte tog wel op ’n universele struktuur toe. Twee elemente is hier van belang, naamlik dié wat ’n heksepakt in die film aangaan: vroulikheid as universele genderkonstruk (wat binne die filmnarratief voortspruit uit en ideologies geaktiveer word deur sosiopolitieke onreg) en die uniekheid van (LaCapriaanse) historiese trauma, veral soos vergestalt in die ervaring van Josef Klemperer, wat sy vrou tydens die Holocaust verloor het. Klemperer se persoonlike worsteling met sy verlede (wat as ’t ware die narratief van Susie omarm) speel in ’n spesifieke, historiese konteks af, waar ’n kollektiewe omgaan met trauma en die skuld van ’n vorige generasie vir die grootskaalse veranderinge in die Duitse res publica van die dag verantwoordelik was. In die loop van die film word Klemperer se trauma op verskeie vlakke deur die groter narratief van die hekse toegeëien, sodat die unieke wortels daarvan uitgetrek word en Klemperer se geskiedenis (en moontlik selfs die Holocaust?) niks meer as ’n episode en ’n agonie teen ’n veel ruimer agtergrond van strukturele onreg word nie (kyk bv. Anderson 2018; Crosbie 2018).40

Hoewel sommige kommentators hom as ’n passiewe getuie identifiseer en hom daarom ’n geïmpliseerde skuldlas toeskryf (kyk Vigilla 2019; Hayes 2018), is Josef Klemperer, soos Victor Klemperer (die nougesette boekstawer van Nazi-Duitsland), nie net op individuele nie, maar ook op kollektiewe vlak ’n slagoffer van trauma. Josef blyk te laat in sy pogings te gewees het om sy vrou tydens die Tweede Wêreldoorlog te red, met die gevolg dat sy in 1943 in Theresienstadt gesterf het.41 Sy gebrek aan oordeel om vinniger op te tree, veroorsaak skynbaar ’n skuldgevoel by Klemperer, soos reeds genoem, deurdat hy onmiskenbaar deur sy herinneringe aan Anke en haar traumatiese verlede vasgeketting is. Sy gereelde besoeke aan sy en Anke se datsja in Oos-Berlyn word die gefikseerde en performatiewe uitspeel van sy skuldgevoelens en verlange na haar – dit is sy pogings tot herkonneksie met ’n skim wat as persoon reeds 34 jaar tevore spoorloos verdwyn het. Dit is veelseggend dat Klemperer homself egter teen enige aanklag van skuld verweer: Die film impliseer dat sy funksie as sielkundige hom in staat stel om gebeure en dikwels ’n gevaarlike stand van sake psigologies te rasionaliseer, dit te besweer en homself in die proses in ’n rasionele diskoers teen skuldaantygings te verskans. Soos wat hy Anke nie gered het nie, so het hy ook nie tot Patricia se redding gekom toe sy hom met bewerings van heksery tydens haar terapiesessies genader het nie.

Wanneer Klemperer uiteindelik deur die hekse ontvoer word om as onwillige getuie van hulle ritueel op te tree en hy in die proses om Mitleid (medelye) smeek, is een van die hekse se antwoord: “Mitleid, warum sollte ich? Du hattest jahrelang Zeit mit deiner Frau Berlin zu verlassen bevor es zur Festnahme kam ... Auch wenn Frauen dir die Wahrheit sagen, dann hast du auch kein Mitleid mit ihnen. Du sagst ihnen einfach nur, sie hätten Wahnvorstellungen” (1:56:29).42 Dit is in beginsel ’n manlike diskoers wat hier beskuldig word, met Klemperer bloot as die vernaamste, maar uiteindelik ook toevallige, eksponent hiervan. Sy uitroepe: “Ich bin nicht schuldig ... ich bin unschuldig. Ich kann mich an alles erinnern ... Ich bin unschuldig. [...] Ich bin keiner von Ihnen” (1:59:18)43 dui op ’n belangrike spanning tussen individuele en kollektiewe skuld wat hier geaktiveer word. Klemperer verdring sy skuld as individu deur middel van sy rasionalisering (ongeag sy skuld jeens Anke en Patricia, al dan nie), maar die vraag is in hoeverre die skuld van die manlike diskoers as sodanig, wat hy hier duidelik en emblematies verteenwoordig, eweneens genegeer kan word. Hierdie vraag resoneer met die problematiek van kollektiewe skuld binne die historiese konteks van Vergangenheitsbewältigung, wat so ’n belangrike deel van die Duitse Herfs van 1977 uitgemaak het (kyk o.a. Gross 2018; N. Jones 2018). In die verlengde hiervan kan Karl Jaspers se teoretisering van skuld (na afloop van ’n kollektiewe trauma soos die Holocaust) in Die Schuldfrage eweneens hier betrek word. Wanneer Klemperer beweer: “Ich kann mich an alles erinnern ... Ich bin unschuldig”, kan ’n ironiese teenvraag gestel word: “Ich kann mich an nichts erinnern … Ich bin schuldig”? Is Jaspers se ontologiese skuld nie juis teenwoordig in dit wat ons nie (kan) ken nie, die blinde hoeke van ons verwysingsraamwerke? Is Klemperer se skuld nie terug te voer na die manlike diskoers wat hom nie toelaat om sy skuld enigsins te kán herken nie? Só gesien is hy volgens die Lacaniaanse wet van die vader in blindheid en skuld ontvang en gebore. Kortom neem Klemperer dus die aktansiële posisies van slagoffer, getuie en (volgens die hekse) ook passiewe dader in – afhangende daarvan of hy as individuele subjek of verteenwoordiger van ’n kollektiewe diskoers benader word.

’n Soortgelyke spanning tussen individuele en kollektiewe status is rondom die karakter van Susie merkbaar. Haar reis vanaf groentjie tot Moeder Suspiriorum is ook ’n reis vanaf individu na representatiewe verteenwoordiger van die hekse (en binne die parameters van die film dus ook die Vrou). As Moeder Suspiriorum is sy in die eerste plek moeder vir haar heksekolonie en verteenwoordig sy laasgenoemde as simboliese instansie. Dit is die rede waarom sy met die aanvang van die ritueel deur Markos aangesê word om haar van haarself te ontledig,44 sodat sy suiwer inkarnasie kan word van haar wat Markos is, maar in die konteks van die narratief dus ook die verpersoonliking van die heksekolonie (en dus die Vrou). Hierdie transponering van individu na kollektief word reeds in ’n estetiese konteks deur Blanc verduidelik: “When you dance the dance of another, you make yourself in the image of its creator. You empty yourself, so that her work can live within you (1:19:26).” Die losse skroewe waarop Susie se unieke subjektiwiteit gegrond is, word duidelik merkbaar uit die feit dat sy van meets af aan deur die noodlot as Moeder Suspiriorum geoormerk was, maar haar individualiteit word ook verder bevraagteken deur haar droomlandskap, wat sedert haar aankoms by die dansgeselskap deur Blanc ontwerp word,45 asof dit in ’n kollektiewe onderbewuste gesetel sou wees (kyk bv. Hayes 2018). Haar wording tot Suspiriorum, wat deur die letterlike en simboliese blootstel van haar hart van sugte beseël word, suggereer eweneens die kollektiewe status van haar identiteit, wat verder deur die roesemoes van sugte wat die beelde vergesel, geïmpliseer word.46 Die (her)geboorte as Moeder Suspiriorum is dus die opneem van ’n representatiewe funksie en ’n estetiese sublimering van haar rol as vrou – soortgelyk aan Klemperer, wat as verteenwoordigend van ’n manlike diskoers verbeeld word. In soverre groei albei dus in die ontvouing van die narratief tot karakters met ’n representatiewe funksie uit, as verteenwoordigend van genderperspektiewe in ’n betrokke manlike en vroulike diskoers te figureer. 

Dit gooi ’n lang skaduwee oor die wyse waarop Suspiria (2018) trauma, vernaam die trauma van die Holocaust, tematiseer. Die spesifisiteit van hierdie historiese trauma word telkens weer deur die lens van die genderdiskoers, soos gebaseer op ’n matriks van strukturele onreg, geproblematiseer. Beter gestel: Die historiese trauma van die Holocaust word deur die lens van sosiopolitieke onreg, wat met ideologiese genderopvattings saamhang, gefiltreer. Die kwessie van die getuienis van (historiese) trauma word ’n insiggewende motief waardeur die kartering van historiese trauma op ’n genderkonstruk belig kan word. Blanc is die karakter wat die belangrikheid van die teenwoordigheid van ’n getuie suggereer ten einde die sukses van die hekseritueel teen die einde van die film te verseker: “Ich werde einen alten Brauch aufgreifen” (1:01:54).47 Dit is ’n atavistiese dansritueel wat nakend en in ’n ekstatiese beswyming deur die dansers van die geselskap uitgevoer word, maar ook menslike offers insluit. Die rol van die getuie word nooit gemotiveer nie, maar die keuse van Klemperer blyk tog op verhaalvlak en tematies sin te maak, veral as hy as verteenwoordiger van die manlike diskoers gesien word. 

Op verhaalvlak skyn hy ’n ooglopende keuse te wees, aangesien hy in elk geval reeds weens Patricia se ontboeseming sy vermoedens oor die werklike aard van die dansgeselskap koester.48 Die hekse is hiervan bewus, maar ook bewus van die implikasies wat die aanskoue van die skokkende ritueel op ’n getuie mag inhou. Indien Klemperer dus slagoffer van sy getuienis sou word, sou dit vir die hekse bloot bykomende sadistiese plesier verskaf. Maar indien hy pertinent as manlike getuie gesien word, is sy redusering tot passiewe getuie tydens die wording van Suspiriorum en die viering van feministiese mag wat tyd en plek oorstyg, die uiterste belediging. Só gesien is daar egter ook ’n ander struktuur in die dinamika van die getuienis sigbaar, naamlik dat dit net deur die erkenning van die Ander is, dat die legitimiteit van die eie bevestig kan word (kyk bv. Hayes 2018). Dit is ’n binariteit wat in hierdie konteks man teenoor vrou stel, Klemperer teenoor die hekse - maar hulle tog ook onlosmaaklik met mekaar verbind. Dit is ’n binariteit gebaseer op die wedersydse getuienis van geweld en vernietiging: Soos wat Klemperer getuie is van ’n ritueel van dood en vernietiging, so was die hekse tydens die Tweede Wêreldoorlog getuienis van dood en vernietiging op ’n ongekende skaal (kyk bv. N. Jones 2018). En selfs die trauma van die Holocaust kan per implikasie hier ingereken word, wat beteken dat die spesifieke, historiese aard daarvan weggevaag word in ’n dialektiek van vernietiging, waar rituele geweldpleging en die getuienis daarvan mekaar afwissel. Geweld vind ter wille van die getuienis daarvan plaas en getuienis ter wille van die geweld: Die enigste hoop te midde van hierdie dialektiek is ’n sublimering daarvan tot kuns – dít wat Blanc se dansgeselskap dan ook met projekte soos “Volk” en “Wieder öffnen” doen.49

Sentraal tot die epiloog van die film is Susie se uitwis van Klemperer se geheue aan vier (of is dit dalk meer?) vrouens: “Of Anke Meier, of Patricia Hingle, of Sara Sims, of Susanna Banion, of all the women of your undoing, every memory will vanish. They will melt away in the sun and be gone. Wir brauchen Schuld, Doktor, und Scham, aber nicht deine” [Ons het skuld nodig, doktor, en skaamte, maar nie joune nie] (2:18:45). Op individuele vlak is hierdie daad uitermate ambivalent: Enersyds word die dikwels traumatiese spoke van Klemperer se verre en meer onlangse verlede te ruste gelê, maar andersyds ontneem dit hom van sy persoonlike verlede, hoe moeilik dit ook al mag gewees het. Daarmee gaan ook ’n groot stuk van die narratief van sy identiteit verlore. Soos wat Guadagnino self dit stel: “You feel that something good has happened to a beloved character. But in truth, it’s a monstrous act. Without memory, even the most painful of memories, we are nothing. We are not human. So the person who wipes off the memory is really a villain” (N. Jones 2018; kyk ook Vigilla 2018; Hayes 2018). Die etiese probleem hier is die gelykstel van verskillende vroue met mekaar (eggenote en pasiënte) om sodoende hierdie individuele vroue ondergeskik te stel aan ’n bepaalde begrip die Vrou. Die individuele vroue verdwyn dus in die groter narratief van die Vrou (wat vir mans se ondergang (“undoing”) verantwoordelik is), in die groter narratief gebaseer op ’n bepaalde genderkonstruk. Dít is dan die lens wat vir Klemperer oorbly om met sy eie verlede om te gaan: nie die pyn van persoonlike belewenis nie, maar die abstraksie van ’n sosiopolitieke, maar tog ook psigoanalities gefundeerde konstruk.

Die insiggewendste wyse waarop dit in die film verbeeld word, is met die motief van die hartjie, wat as simbool van hulle liefde deur Klemperer en Anke aan die muur van hulle datsja aangebring is. Hierdie motief verskyn regdeur die film: op ’n foto in Klemperer se studeerkamer, maar ook duidelik tydens sy besoeke aan die datsja.50 Dit is egter ook die heel laaste toneel van die film, wanneer die kamera al hoe nader op hierdie teken van hulle liefde fokus (die hartjie uitgekerf op die hoek van twee buitemure van die datsja, met die letters “A” en “J” aan die binnekant daarvan), totdat dit so naby beweeg dat dit uit fokus raak. Te oordeel aan die mense wat in die toneel voor die kamera verbybeweeg, blyk ’n lang tyd te verloop het sedert Susie se besoek aan Klemperer – ’n gesprek op ’n slimfoon sou nie in 1977 moontlik gewees het nie. Maar wat beteken hierdie slottoneel van die film? Die hartjie is duidelik simbool van Klemperer se (traumatiese) herinnering aan en ook teken van sy liefde vir en lojaliteit teenoor Anke. Dit is ’n teken waarvan die betekenis net teen die agtergrond van die lewensnarratiewe en geskiedenis van dié individue wat met hierdie konteks vertroud is, verstaanbaar is. Maar sonder ’n herinnering aan die spesifieke verhale word hierdie teken ontneem van ’n konteks en word dit niks meer as ’n objek wat bloot op die verloop van tyd dui nie. Dit is ’n betekenislose objek, buiten ’n merker te wees van die onverbiddelike verloop van leë tyd. Van Klemperer se persoonlike trauma het niks oorgebly nie; dit is gekarteer op ’n genderkonstruk wat die sosiopolitieke ongeregtighede van die Vrou se posisie in die patriargie blootlê, maar dit ook uitdaag. In die plek van Klemperer se hartjie staan nou die kloppende hart van Moeder Suspiriorum wat Susie onder begeleiding van die sugte van die wêreld aan die kyker as getuie ten toon gestel het.

 

4. Slot: Vergestaltings van trauma

Waar die vergestalting van strukturele trauma in Argento se Suspiria aan die uitstel van betekenis(gewing) (soos verbeeld deur die verskuiwing van fokus tussen diëgetiese vlakke) merkbaar word, is ’n soortgelyke performatiewe uitspeel van die afwesigheid van epistemologiese bestendiging nie in Guadagnino se weergawe so opvallend nie. Sekere filmiese tegnieke en intertekstuele verwysings wat as metakommentaar op die film as film dui, sou veral vir ’n gesoute kyker opvallend kon wees, maar dit kan maklik ook as bedoelde aanbieding van die film as hommage gesien word. Daarteenoor speel historiese trauma ’n veel belangriker rol – vernaam teen die agtergrond van Josef Klemperer se biografie, asook die problematisering van Vergangenheitsbewältigung wat in 1977 ’n belangrike kwessie binne die Wes-Duitse sosiopolitieke diskoers was. Wat in die hervervaardigde film belangriker is, is die wyse waarop die feministiese tema van genderkonstrukte, soos gebaseer op sosiale onreg, as filter gebruik word om veral die omgaan met trauma te rig. 

Die perspektief van die hekse skyn ’n blik op die wêreld te wees waar onreg, wat ook geweld en vernietiging impliseer, as historiese vergestaltings van die gevolge van ’n manlike diskoers gesien word. Hoewel die heksekolonie getuies van laasgenoemde is, is hulle ook slagoffers en neem hulle reaksies hierop eweneens dieselfde vorm van geweld en vernietiging aan. Die agonie van hulle verlede is volgens so ’n siening op hierdie onreg gebaseer – met die inkarnasie van die magtige Moeder Suspiriorum, wat as teenwig hierteen geantisipeer word. Die gevolg is dan dat die trauma van die Holocaust, hetsy as diskursiewe kwessie binne die sosiopolitieke sfeer, of as ’n persoonlike narratief van skuld en verlies, binne hierdie verwysingsraamwerk verdwyn. Om dit in LaCapriaanse terme te stel: Die genderkwessie word ’n meesternarratief wat poog om ten minste vir die wêreld van die hekse heling te bring. Universele trauma as ontologiese gegewe word op historiese trauma gekarteer, waardeur eersgenoemde gereduseer word tot ’n historiese probleem wat met ingryping van menslike (of dan hekse-) agentskap bestuur kan word. Maar soos wat die geskiedenis so dikwels geleer het, is die gevolg hiervan dikwels geweld.

Die figuur van Klemperer word die karakter deur wie die etiese implikasie van hierdie kartering ondersoek word. Sy persoonlikste gevoelens van verlies en skuld word onder die vaandel van ’n groter narratief (“women of your undoing”) as towerspel weggevaag, waardeur hy nie net sy verlede nie, maar ook sy identiteit verloor. Al wat daarvan oorbly, is ’n teken teen ’n muur wat deur niemand meer gesnap word nie. In hoeverre die nuwe inkarnasie van Moeder Suspiriorum die moeilike balans tussen strukturele en historiese trauma(s) verder sal benader, bly egter ’n ope vraag. As die nuwe “hande” van die dansgeselskap en heksekolonie (1:19:46) sal sy ook die komplekse interaksie tussen die “absence at the heart of being” en die nadraai van unieke traumatiese ervarings telkens weer opnuut moet navigeer. Die wens mag wees om aan sekere ervarings van die geskiedenis te ontsnap, soos wat madame Blanc dit aan Susie stel: “I don’t know how aware you are of what times we lived through here forty years ago […] We learned a great cost through those years: the value of the balance of things. Every arrow that flies, feels the pull of the earth. But we must aim upwards.” Maar Susie se antwoord later in die film impliseer dat selfs hekse hulle nie aan die verloop van geskiedenis kán onttrek nie: “It’s all a mess, isn’t it? The one out there, the one in here, the one that’s coming ... Why is everyone so ready to think the worst is over?” (1:46:43)

 

Bibliografie 

Acker, K. 1994. My mother: Demonology: A novel. New York: Grove Press.

Anderson, M. 2018. Dance dance devolution. Artforum. https://www.artforum.com/print/201809/melissa-anderson-on-luca-guadagnino-s-suspiria-77262 (13 Januarie 2020 geraadpleeg). 

Baila, M. 2018. Suspiria’s director was haunted by the original for years – & you will be, too. Refinery 29. https://www.refinery29.com/en-us/2018/10/214525/suspiria-director-luca-guadagnino-interview-scary-scenes (13 Januarie 2020 geraadpleeg). 

Ball, K. 2004. Hegel without reserve. Twentieth Century Literature, 50(4):421–32. 

Chen, N. 2018. Luca Guadagnino on his visceral, “slow burn” take on Suspiria. Dazed. https://www.dazeddigital.com/film-tv/article/42170/1/luca-guadagnino-suspiria-call-me-by-your-name-interview (13 Januarie geraadpleeg). 

Clapp, C. 2018. Fear of fear: Luca Guadagnino’s visual influences for “Suspiria”. Creative Planet Network. https://www.creativeplanetnetwork.com/news/news-features/fear-of-fear-luca-guadagninos-visual-influence-for-suspiria (13 Januarie 2020 geraadpleeg).

Collinson, G. 2018. Luca Guadagnino responds to critics of his Suspiria remake. Flickering Myth. https://www.flickeringmyth.com/2018/01/luca-guadagnino-responds-critics-suspiria-remake (13 Januarie 2020 geraadpleeg).

Craps, S. 2013. Postcolonial witnessing: Trauma out of bounds. Basingstoke: Palgrave Macmillan. 

Crosbie, J. 2018. From candy to concrete: Luca Guadagnino’s Suspiria. The Quietus. https://thequietus.com/articles/25673-suspiria-guadagnino-remake-review (13 Januarie 2020 geraadpleeg). 

Eisenstein, P. 2003. Traumatic encounters: Holocaust representation and the Hegelian subject. Albany: State University of New York Press.

Fendi, D.D. 2018. Filmmaker Luca Guadagnino is spell bound for CR Men Issue 7. CR Men. https://www.crfashionbook.com/mens/a23900000/luca-guadagnino-interview-cr-men-issue-7 (13 Januarie 2020 geraadpleeg).

Forrest, J. 2002. The “personal” touch: The original, the remake, and the dupe in early cinema. In Forrest en Koos (reds.) 2002. 

Forrest, J. en L.R. Koos (reds.). 2002. Dead ringers: The remake in theory and practice. Albany: State University of New York Press. 

Francisco, E. 2018. Why “Suspiria” ditched ballet and became a Cold War period movie. Inverse. https://www.inverse.com/article/50308-suspiria-director-screenwriter-interview-explain-why-it-lost-ballet-and-a-cold-war-period (13 Januarie 2020 geraadpleeg).

Grindstaff, L. 2002. Pretty woman with a gun: La Femme Nikita and the textual politics of “The remake”. In Forrest en Koos (reds.) 2002.

Gross, L. 2018. Love is colder than death: Luca Guadagnino on Suspiria. Filmmaker. https://filmmakermagazine.com/105976-love-is-colder-than-death/#.XhzRJXduJPY (13 Januarie 2020 geraadpleeg).

Guiducci, M. 2018. “Suspiria” director Luca Guadagnino on his “Tetralogy of desire”. Garage. https://garage.vice.com/en_us/article/mb4xpn/suspiria-director-luca-guadagnino-on-his-tetralogy-of-desire (13 Januarie geraadpleeg). 

Hammond, J. 2017. Why the snap zoom is out of place in Man of steel. Monday Morning Movie Quarterback. https://mondaymorningmoviequarterback.wordpress.com/2017/11/27/snap-zoom-out-of-place-man-of-steel (13 Januarie 2020 geraadpleeg).

Harney, M. 2002. Economy and aesthetics in American remakes of French films. In Forrest en Koos (reds.) 2002.

Hayes, B. 2018. Sunday reads: Suspiria – Psychoanalyzing Luca Guadagnino’s rapturous rebirth of a horror classic. Birth. Movies. Death. https://birthmoviesdeath.com/2018/11/04/sunday-reads-suspiria-psychoanalyzing-luca-guadagninos-rapturous-rebirth-of (13 Januarie 2020 geraadpleeg).

Heller-Nicholas, A. 2018. Three Mothers Redux: Kathy Acker, Pina Bausch, Tilda Swinton and Luca Guadagnino’s Suspiria. Senses of Cinema 88. http://sensesofcinema.com/2018/feature-articles/three-mothers-redux-kathy-acker-pina-bausch-tilda-swinton-and-luca-guadagninos-suspiria (13 Januarie 2020 geraadpleeg). 

Horton, A. en S.Y. McDougal. 1998. Play it again, Sam: Retakes on remakes. Berkeley en Los Angeles: University of California Press.

Hunt, A. 2018. “We should recreate the real world in another Dimension”: Director of photography Sayombhu Mukdeeprom on Luca Guadagnino’s Suspiria. Filmmaker. https://filmmakermagazine.com/106220-we-should-recreate-the-real-world-in-another-dimension-director-of-photography-sayombhu-mukdeeprom-on-luca-guadagninos-suspiria/#.Xh1td-gzbcs (13 Januarie 2020 geraadpleeg). 

Jess-Cooke, C. 2009. Film sequels: Theory and practice from Hollywood to Bollywood. Edinburgh: Edinburgh University Press. 

Jones, A. 2018. Killing the mother: Luca Guadagnino discusses “Suspiria”. Notebook. https://mubi.com/notebook/posts/killing-the-mother-luca-guadagnino-discusses-suspiria (13 Januarie 2020 geraadpleeg).

Jones, N. 2018. Luca Guadagnino reveals Dakota Johnson’s secret second role in Suspiria. Vulture. https://www.vulture.com/2018/10/luca-guadagnino-suspiria-interview.html (13 Januarie 2020 geraadpleeg). 

Juzwiak, R. 2018. Director Luca Guadagnino on assaulting the senses and indicting patriarchy in Suspiria. Jezebel. https://themuse.jezebel.com/director-luca-guadagnino-on-assaulting-the-senses-and-i-1829994124 (13 Januarie 2020 geraadpleeg).

Kelleter, F. 2012. “Toto, I think we’re in Oz again” (and again and again): Remakes and popular seriality. In Loock en Verevis (reds.) 2012. 

Klein, A.A. 2011. American film cycles: Reframing genres, screening social problems, and defining subcultures. Austin: University of Texas Press.

Klein, A.A. en R.B. Palmer (reds.). 2016. Cycles, sequels, spin-offs, remakes, and reboots: Multiplicities in film and television. Austin: University of Texas Press.

Klein, A.A. en R.B. Palmer. 2016. Introduction. In Klein en Palmer (reds.) 2016. 

LaCapra, D. 2001. Writing history, writing trauma. Baltimore: Johns Hopkins University Press. 

Leitch, T. 2002. Twice-told tales: Disavowal and the rhetoric of the remake. In Forrest en Koos (reds.) 2002. 

—. 2007. Film adaptation and its discontents: From “Gone with the wind” to “The Passion of the Christ”. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Loock, K. en C. Verevis (reds.). 2012. Film remakes, adaptations and fan productions: Remake/Remodel. Basingstoke: Palgrave MacMillan.

Luers, E. 2018. “Suspiria” DP Sayombhu Mukdeeprom on the complexities of shooting a horror masterwork. No Film School. https://nofilmschool.com/2018/10/suspiria-sayombhu-mukdeeprom (13 Januarie 2020 geraadpleeg).

Marcks, I. 2018. Suspiria: Season of the witch. American Cinematographer. https://ascmag.com/articles/suspiria-season-of-the-witch (13 Januarie 2020 geraadpleeg). 

Meyer-Grimberg, R.J. 2018. History and art elevate Luca Guadagnino’s Suspiria … With legal consequences. Berlin Film Journal. http://berlinfilmjournal.com/2018/11/history-art-elevate-luca-guadaginos-suspiria-legal-consequences (13 Januarie 2020 geraadpleeg).

Nordine, M. 2018. Luca Guadagnino on “Suspiria”, his “Zone of darkness”, and that “Call me by your name” sequel – Venice. IndieWire. https://www.indiewire.com/2018/09/luca-guadagnino-suspiria-interview-venice-film-festival-1201999848 (13 Januarie 2020 geraadpleeg). 

—. 2019. Dario Argento says “Suspiria” remake “betrayed the spirit of the original”. IndieWire. https://www.indiewire.com/2019/01/dario-argento-suspiria-remake-luca-guadagnino-1202036691 (13 Januarie 2020 geraadpleeg).

Perkins, C. en C. Verevis (reds.). 2012. Film trilogies: New critical approaches. Basingstoke: Palgrave MacMillan.

Renée, V. 2013. Deep focus: Taking a closer look at the use of split diopters in film. No Film School. https://nofilmschool.com/2013/10/deep-focus-use-of-split-diopters-in-film (13 Januarie 2020 geraadpleeg).

Roberts, J.L. 2018. Trauma and the ontology of the modern subject: Historical studies in philosophy, psychology, and psychoanalysis. Londen en New York: Routledge.

Roche, D. 2014. Making and remaking horror in the 1970s and 2000s: Why don't they do it like they used to?. Jackson: University Press of Mississippi.

Roth, M. 2002. Twice two: The fly and Invasion of the body snatchers. In Forrest en Koos (reds.) 2002.

Tang, E. 2018. How Suspiria bewitched us a second time. Elle. https://www.elle.com/culture/movies-tv/a25018803/suspiria-luca-guadagnino-giulia-piersanti-interview (13 Januarie 2020 geraadpleeg). 

Varndell, D. 2014. Hollywood remakes, Deleuze and the grandfather paradox. Basingstoke: Palgrave MacMillan. 

Verevis, C. 2006. Film remakes. Edinburgh: Edinburgh University Press. 

Vigilla, H. 2019. Deep analysis: Luca Guadagnino’s Suspiria remake (Part Two). Flixist. https://www.flixist.com/deep-analysis-luca-guadagnino-s-suspiria-remake-part-two (13 Januarie geraadpleeg).

Wee, V. 2014. Japanese horror films and their American remakes: Translating fear, adapting culture. New York en Londen: Routledge. 

Zanger, A. 2006. Film remakes as ritual and disguise: From Carmen to Ripley. Amsterdam: Amsterdam University Press.

 

Eindnotas

1 Craps (2013:2) identifiseer vier elemente waar ’n “Eurosentriese” teoretisering van trauma sou tekortskiet: 

Remarkably, however, the founding texts of the field […] largely fail to live up to this promise of cross-cultural ethical engagement. They fail on at least four counts: they marginalize or ignore traumatic experiences of non-Western or minority cultures, they tend to take for granted the universal validity of definitions of trauma and recovery that have developed out of the history of Western modernity, they often favour or even prescribe a modernist aesthetic of fragmentation and aporia as uniquely suited to the task of bearing witness to trauma, and they generally disregard the connections between metropolitan and non-Western or minority traumas. As a result of all of this, rather than promoting cross-cultural solidarity, trauma theory risks assisting in the perpetuation of the very beliefs, practices, and structures that maintain existing injustices and inequalities.

2 Hetsy ’n menslike agentskap of ’n natuurramp.

3 Só ’n siening sou byvoorbeeld trauma as bepalende faktor van identiteit as sodanig onderskryf (kyk bv. Roberts 2018:4, 58, 74, 79, 83–4, 87, 96). 

4 Eisenstein (2003:45) verwys hier na die skep van Lacaniaanse “quilting points” (kyk ook Eisenstein 2003:42, 44–5, 47, 59, 71, LaCapra 2001:78, Ball 2004:429, Žižek 1989:xxviii, xxix, 45, 48–9). 

5 In sy werk Traumatic encounters: Holocaust representation and the Hegelian subject (2003) voer Eisenstein aan dat die fokus op enige eties-aanvaarbare omgaan met trauma wel strukturele trauma behoort te benadruk. Hy poneer verder ’n derde opsie in die balansering van strukturele en historiese trauma, wat hier nie bespreek kan word nie, maar tog weer eens op strukturele trauma as voorwaarde vir historiese trauma fokus, wat volgens hom ook enige empatiese omgaan met die traumas van ander beliggaam (Eisenstein 2003:6, 12, 68, 70, 135, LaCapra 2001:71–2, 74, 141, Ball 2004:430).

6 Suspiria (1977) se invloed strek ook verder as die filmkuns: In die eksperimentele skryfster Kathy Acker se roman My mother: Demonology: A novel (1994) verskyn ’n hoofstuk getiteld “Clit city”, waarin Acker haar weergawe van die Argento-film aanbied – die hoofstuk is trouens ook opgedra aan Argento (kyk bv. Heller-Nicholas 2018).

7 Guadagnino se eerste twee films is The protagonists (1999) en Melissa P., maar dit is veral die bittersoet Call me by your name wat hom hoofstroomsukses besorg het. Laasgenoemde film is vir vier Academy Awards genomineer en het die Oscar vir beste verwerkte draaiboek ontvang.

8 Guadagnino verkies ook die term cover version vir sy film (Nordine 2018).

9 Hierdie tendens is natuurlik geensins tot die grufilmgenre beperk nie, maar enkele hervervaardiging van bekende, soms hoofstroomgrufilms wat in 2019 vrygestel is, of wat in 2020 verwag word, sluit in: Child’s play (2019), It chapter two (2019), Pet sematary (2019), Black Christmas (2019), Jacob’s ladder (2019), Rabid (2019), The grudge (2020), The invisible man (2020), Candyman (2020) en Fantasy island (2020, gebaseer op die TV-reeks uit die 1970’s).

10 Dit is egter opvallend dat talle hervervaardigings dié elemente wat in die oorspronklike weergawes enigmaties bly, deur middel van ’n oormaat aan narratiewe eksposisie verduidelik. Intussen het verskeie werke verskyn wat poog om die verskynsel van hervervaardigings te teoretiseer. Hieronder geld: Andrew Horton en Stuart Y. McDougal se Play it again, Sam: Retakes on remakes (1998), Jennifer Forrest en Leonard R. Koos se Dead ringers: The remake in theory and practice (2002), Constantine Verevis se Film remakes (2006), Carolyn Jess-Cooke se Film sequels: Theory and practice from Hollywood to Bollywood (2009), Claire Perkins en Constantine Verevis se Film trilogies: New critical approaches (2012), Amanda Ann Klein se American film cycles: Reframing genres, screening social problems, and defining subcultures (2011), Thomas Leitch se Film adaptation and its discontents: From “Gone with the wind” to “The Passion of the Christ” (2007), Kathleen Loock en Constantine Verevis se Film remakes, adaptations and fan productions (2012), Daniel Varndell se Hollywood remakes, Deleuze and the grandfather paradox (2014), Valerie Wee se Japanese horror films and their American remakes (2014), Anat Zanger se Film remakes as ritual and disguise: From Carmen to Ripley (2006) en David Roche se Making and remaking horror in the 1970s and 2000s: Why don’t they do it like they used to? (2014).

11 Die offisiere, wat op aandrang van Klemperer by die dansgeselskap oor Patricia gaan navraag doen, word onder ’n towerspel geplaas, kaal uitgetrek en deur ’n hele paar van die hekse uitgelag. Veral een van die offisiere se penis word objek van bespotting, wat duidelik inpas by die feministiese emaskulering van hul verteenwoordigende patriargale gesag.

12 Susie se dans van “Volk” het nie ten doel om Olga te beseer nie, maar lei op enigmatiese wyse tot die vernietiging van laasgenoemde se liggaam: dans, estetiese ritueel en towermag word hier ’n konfigurasie van elemente met destruktiewe implikasies. 

13 Dans word dikwels met ’n estetiese belewenis in verband gebring – soos wat ’n sublieme ervaring ook aan die magiese grens. 

14 Klemperer se privaatherinneringe word tot so ’n mate deur die hekse gemanipuleer dat hy later glo dat hy Anke weer ontmoet. Vervloeibaarheid tussen heksery en subjektiewe geheue is in sy geval duidelik en ontstemmend. 

15 In die geval van Susie skyn haar drome van elders te kom – dit is dikwels ontstemmende beelde soos veral gestuur deur Blanc.

16 Patricia se beskrywings word verkeerdelik deur Klemperer as transferensie beskryf, hoewel sy psigologiese diagnose dalk ook in die film as blote heksespreuk ontmasker word. (Boeke wat in sy kantoor verskyn, sluit C.G.W. Pelman se Psychische Grenzzustände en C.G. Jung se Die Psychologie der Übertragung in.) 

17 Wanneer Susie haarself tydens die ritueel aan die einde van die film van haar ma “losmaak”, word laasgenoemde duidelik hiervan bewus – die kleur van die film verander na rooi, wat daarop dui dat selfs geografiese afstande geen merkbare impak op die reikwydte van hierdie wêreld, gekleur deur magie, het nie – die gevolg is dat die wêrelde noodgedwonge vervloei. 

18 Susie se ma lê skynbaar op sterwe en vir haar as konserwatiewe Mennoniet is daar ook doodsbegeleiding wat plaasvind. Die jukstaponering met die rituele van die dansgeselskap benadruk die gemeenskaplike noemer van magiese ritualiteit tussen die twee wêrelde. Dit gaan egter ook veel verder as dit, deurdat Klemperer baie duidelik vir Patricia daarop wys dat daar haas geen verskil tussen wa(a)nvoorstellings en geloof is nie: “You can give someone your delusion – that’s religion.” Hy bring voorts ook die rituele van Nazi-Duitsland hiermee in verband.

19 Susie se droom (selfs as klein dogtertjie) om na Wes-Berlyn te gaan, blyk nooit ’n vrye keuse te gewees het nie. Sy was altyd reeds Moeder Suspiriorum en haar reis na die verdeelde stad was nooit iets anders as die reis na haar eie wording nie.

20 Hierdie tematiese resonansie kan egter ook in terme van teenstellings geïnterpreteer word (kyk Clapp 2018; Gross 2018). 

21 Veral die ritueel teen die einde, wat ook die wording van Susie as Moeder Suspiriorum verbeeld, is hier van belang: Bykans surreële beelde (soos Susie wat haar borskas oopskeur ten einde haar kloppende hart te vertoon) word met ’n intense rooi kleur en flitsende lig daargestel. Die kyker word hier affektief in die belewenis van die ritueel betrek – ’n duidelike “cinema of attractions”. 

22 Die hoofstukke is “1977”, “Palaces of tears”, “Borrowing”, “Taking”, “In the Mütterhaus (All the floors are darkness)” en “Suspiriorum”; die epiloog is getitel “Epilogue: A sliced-up pear”. Die “Palaces of tears” is weer eens ’n duidelike bewys van die oorvleueling van die wêrelde van die hekse en die alledaagse: die “Tränenpalast” was ’n voormalige oorgangstasie tussen Oos- en Wes-Berlyn (so genoem weens die trane van afskeid wat daar gestort is), maar verwys ook na die tuiste van die heksekolonie, waar Olga onder meer deur onbeheerste trane in haar oë tot haar ondergang in die kamer van spieëls gelok word. 

23 Hieronder geld Angela Winkler (die Duitse aktrise in films soos Die verlorene Ehre der Katharina Blum, Deutschland im Herbst en Die Blechtrommel), Ingrid Caven (voormalige eggenote van Rainer Maria Fassbinder en aktrise in talle van sy films) en Renée Soutendijk (Nederlandse aktrise in films soos Spetters en De vierde man deur Paul Verhoefen).

24 Kyk Renée (2013) vir illustrasies van hierdie kamerategniek.

25 Kyk Hammond (2017) vir illustrasies van hierdie kamerategniek.

26 Die rol van vrouekunstenaars sou volgens Meyer-Grimberg (2018) pertinent deur Guadagnino betrek word; kyk byvoorbeeld sy gebruik van beelde deur Ana Mandieta, wat later uit die lokfilm van Suspiria verwyder moes word weens kopieregprobleme.

27 Hier raak Guadagnino se keuses moreel-eties gevaarlik, aangesien ’n seminale skrywer oor Duitsland se moeilike verlede betrek word. Klemperer is veral vir twee werke bekend: LTI – Notizbuch eines Philologen (Lingua Tertii Imperii) (1947) en die belangrike “Ich will Zeugnis ablegen bis zum letzten”. Tagebücher 1933–1945, wat in agt volumes verskyn het. Klemperer geld as een van die belangrikste getuies van die oorlog – ’n tema wat pertinent in Suspiria ondersoek word.

28 Klemperer beskryf Patricia se vermoedens oor die heksery as “Wahnvorstellungen”.

29 Reeds vroeg in die film (12:44) vat Susie aan haar borskas, wat eers heelwat later oopgeskeur sal word. Die vooruitwysing hierna is egter duidelik.

30 Volgens Blanc: “There are two things that dance can never be again: beautiful and cheerful. Today we need to break the nose of every beautiful thing” (1:18:34). Dit herinner aan ’n Adorniaanse opvatting van modernistiese kuns as reaksie op Auschwitz.

31 Sara sê aan Susie oor Blanc: “She’s incredible … The way she transmits her work … Her energy … when it shines on you, it’s addictive, is the word for it. She’s tough. She kept the company alive through the war, when the right just wanted women to shut off their minds and keep their uteruses open … That was Blanc.” Meer banaal sê Tanner aan Susie: “In this company we fully understand the importance of a woman’s financial autonomy” (17:20). 

32 Sara ontdek in die hekse se geheime kamer talle historiese afbeeldings van vrouefigure, wat duidelik op ’n histories matriargale magsbasis dui.

33 “Volk” is gebaseer op die werk van die choreograaf Damien Jalet, veral sy “les médusées” (kyk Guiducci 2018:5; kyk ook https://www.youtube.com/watch?v=ZeSdm1aCsGw vir ’n opname van hierdie dans).

34 Hierdie samehang word duidelik uit ’n gesprek tussen Blanc en Susie. Blanc meen: “Movement is never mute, it is a language, it is a series of energetic shades, written in the air like words, forming sentences. Like poems, like prayers.” Susie voeg dan by: “Spells?” (1:17:50; kyk ook Guiducci 2018).

35 Kyk hier onder vir ’n bespreking van die rol van die getuie in die film.

36 Markos sê byvoorbeeld aan Susie: “If you accept me, you must put down the woman who bore you. Think of that false mother now […] Expel her … You have the only mother you need here. Death to any other mother” (2:03:28–2:03:55). Dit herinner op ironiese wyse aan die soetlike boodskap wat teen die muur van Susie se biologiese ma vertoon word: “A mother is a woman who can take the place of all others, but whose place no one else can take”; kyk ook Anderson (2018); A. Jones (2018); N. Jones (2018). 

37 Hierdie verhouding word ooglopend negatief daargestel deurdat Susie se ma ook oor laasgenoemde beweer: “My daughter, my last one … she’s my sin. She’s what I smeared on the world” (1:31:13). Susie sweer ook haar biologiese ma af met haar wedergeboorte as Moeder Suspiriorum – dit skyn asof sy in die proses moontlik ook haar ma se dood veroorsaak (kyk bv. 2:03:21).

38 Hierdie verhouding is veelvlakkig, deurdat Blanc ook mentor van Susie is en ’n lesbiese geneentheid tussen die twee soms merkbaar is (kyk bv. 1:47:37). Die magsverhouding wat die verhouding tussen mentor en protégé impliseer, word herhaal in Blanc as kreatiewe skepper van “Volk” en “Wieder öffnen” en Susie wat haar vertolking hiervan uitdaag.

39 Blanc is uiters negatief oor Markos se uitvoering van haar moederlike plig ten opsigte van die heksekolonie – wat ’n voorbeeld is van magskonflik, soos wat dit gekarteer kan word op die verskillende generasies waartoe moeders en dogters behoort: “Wenn Markos wirklich eine Mutter wäre, dann würden wir nicht in dieser Situation stecken” (“As Markos werklik ’n moeder was, sou ons onsself nie nou in hierdie situasie bevind het nie”; eie vertaling) (59:22). 

40 Dit open noodwendig vrae rondom enkele etiese aspekte van Suspiria – veral wat betref die moontlike problematiese gebruik van die Holocaust as verhaalgegewe. Soos wat Klemperer se persoonlike trauma en gevoelens van skuld tematies gesproke binne ’n groter narratief geïnstrumentaliseer word, so kan ook vrae gestel word oor Guadagnino se gebruik van die Holocaust in die film, met ander woorde in hoeverre ook hy konvensies van (Holocaust-) traumanarratiewe na sy film transponeer. Júis die ontleding van die film in terme van die kartering en veral kodifisering van trauma in terme van narratiewe konvensies maak egter die deur oop vir besinning oor die representasie van die Holocaust as etiese kwessie.

41 Klemperer word eers teen die einde van die film deur Susie van die besonderhede van haar dood verwittig.

42 “Waarom sou ek medelye hê? Jy het jare lank die geleentheid gehad om Berlyn met jou vrou te verlaat voordat dit tot enige arrestasie gekom het … Ook as vroue aan jou die waarheid vertel, het jy geen medelye met hulle nie. Jy sê gewoon aan hulle dat hulle onder ’n waan verkeer” (eie vertaling).

43 “Ek is nie skuldig nie … ek is onskuldig. Ek kan alles onthou … Ek is onskuldig. […] Ek is nie een van julle nie” (eie vertaling).

44 “There will be nothing of you left inside, only space for me” (2:00:42).

45 Blanc: “Ich sehe es jede Nacht, wenn ich ihr unsere Träume schicken” (1:02:39) (“Ek sien dit elke nag as ek haar ons drome stuur”; eie vertaling).

46 Die dans “Wieder öffnen”, wat reeds ook op hergeboorte en die opening van Susie se hart dui, is die estetiese teenhanger hiervan (kyk Hayes 2018).

47 “Ek sal ’n ou gebruik opneem” (eie vertaling).

48 Die verskil tussen “kyk” en “sien” is hier belangrik: Klemperer se vermoedens bring hom tot op die grens daarvan om te sien, waar ander volstaan met net te kyk. Soos wat Blanc oor die gehoor beweer wat die uitvoering van “Volk” bygewoon het en wat in werklikheid ook ’n ritueel is: “They saw a dance, that’s all” (1:46:40). 

49 Die kyker van Suspiria (2018) is natuurlik sélf ’n getuie: Die film as sublimering impliseer reeds die kyker as getuie. 

50 Kyk onder meer 4:54, 26:10, 1:45:27 en 2:25:39.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Vergestaltings van trauma in <i>Suspiria</i> (2018) deur Luca Guadagnino appeared first on LitNet.

Tegnologiegebruik deur onderwysers vir leerders met leerhindernisse

$
0
0

Tegnologiegebruik deur onderwysers vir leerders met leerhindernisse

Herman Engelbrecht en Maryke Mihai, Departement van Wiskunde-, Wetenskap- en Tegnologie-onderrig, Fakulteit Opvoedkunde, Pretoria Universiteit

LitNet Akademies Jaargang 17(3)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Die navorsers wou bepaal hoe onderwysers tegnologie tydens die onderrig en leer van leerders met spesifieke leerhindernisse gebruik. Ons wou verder bepaal watter soort tegnologie gebruik word en wat die grootste uitdagings is wat onderwysers ervaar met die gebruik van tegnologie tydens die onderrig van leerders met leerhindernisse. Ons wou ook bepaal wat onderwysers se siening is van die waarde wat tegnologie tot hul onderrigaktiwiteite kan toevoeg. 

Die tegnologie-aanvaardingsmodel (TAM) is as raamwerk vir die voorgestelde navorsing gebruik. Die studie is uit ’n interpretivistiese filosofie benader met ’n sosio-konstruktivistiese paradigma. Tydens die gevallestudie is data deur middel van individuele semi-gestruktureerde onderhoude ingewin. Data is induktief verwerk deur gebruik te maak van die Atlas.ti-sagteware. Ons het deur middel van ’n gevallestudie inligting bekom rakende die gebruik van tegnologie deur onderwysers in ’n hoërskool wat spesifiek leerders met leerhindernisse akkommodeer. Ons deel die deelnemers se persoonlike ervarings, belewenisse en perspektiewe in hierdie kwalitatiewe navorsing.

Bevindinge het getoon dat die onderwysers ’n groot moderne televisieskerm en hul persoonlike skootrekenaars tydens die onderrig van leerders met leerhindernisse gebruik. Die TV’s word gebruik vir films oor voorgeskrewe boeke en PowerPoint-aanbiedings. Die leerders gebruik hul selfone in sommige klasse. Die onderwysers het oor die algemeen ’n positiewe benadering tot die gebruik van tegnologie vir leerhindernisse. Nadele van die gebruik van tegnologie is onder andere dat leerders se aandag afgelei word wanneer hulle toegelaat word om hul selfone te gebruik. Die onderwysers is tevrede met die infrastruktuur en ondersteuningsdienste wat die skool bied. Hulle voel dat die leerders deel is van ’n generasie wat met tegnologie grootgeword het, dit dus beter verstaan en dat hulle selfs die onderwysers kan help. 

Trefwoorde: leerders; leerhindernisse; onderwysers; tegnologie; tegnologie-aanvaardingsmodel; uitdagings

 

Abstract

The use of technology by teachers for learners with learning disabilities 

The researchers wanted to find out how teachers use technology for the teaching of learners with specific learning disabilities. We wanted to find out what types of technology are used and what challenges teachers experience while they use technology for learners with learning disabilities. We also wanted to find out what teachers’ perspectives are about the value that technology adds to their teaching.

In the era of the 4th industrial revolution, it is the responsibility of teachers to prepare learners for the workforce after school. It is necessary that learners are technologically skilled when they leave school. The fast development of computer-based technology totally changed the available options for learners with disabilities, and ended their isolation and limited academic opportunities. The technology cannot take the teacher’s place, but it can contribute to a learning environment where learners are encouraged to take part. There are a lot of problems associated with the use of technology, like the high cost of connectivity, unstable internet connections, security problems, maintenance of technology, a teacher’s age or self-image, or even a lack of technology and a lack of training in the use of technology.

There are different types of technology to assist learners with learning disabilities, like Microsoft Ease of Access, text prediction software, different apps and different devices like cell phones, laptops, visualizers and TVs. The learners can also use supportive technology like a calculator to help with maths, and a tablet or computer to make notes if problems with writing are experienced. Supportive technologies help learners with disabilities to do specific tasks on their own, where they would have been dependent on others without it.

The Technology Acceptance Model (TAM) was used as a theoretical framework for the research. According to this model, the users’ perceived ease of use of a system as well as the perceived usefulness will determine if they use technology. External variables like a person’s age, training or support from management will influence how easy or useful a person will find technology. This will have an influence on the users’ attitude towards the technology, which will then influence the behavioural intention to use the technology, as well as the actual use of technology. 

We used an interpretivist philosophy and socio-constructivist paradigm. Interpretivists believe that there is no objective truth. This was a qualitative case study. Qualitative researchers focus on a phenomenon in its natural context and try to understand and interpret the topic according to the meanings that the individual assigns to it. The goal of the research was to explore the use of technology during the teaching of learners with learning disabilities and to identify the perceptions of teachers with regard to the challenges and advantages that technology offers. 

The researchers tried to gain an in-depth understanding of the teacher’s use of technology in the context of a private school in Pretoria East that caters for learners with learning disabilities. The school is conveniently situated near to the home of one of the researchers. The school employs 15 female teachers. Five permanent teachers were identified to take part in the study. They were chosen purposefully. They differ in age: two teachers are older, one is in the middle and two teachers are younger. They teach different subjects. Three of them teach grade 8–9 learners and two teach grade 10–12. We used individual semi-structured interviews as a data collection method. We gave a set of questions to the teachers and made appointments in their free lesson periods or after school. The interviewer used a pre-set set of questions, but could probe further to ensure in-depth data. The interviews took 30–45 minutes each and were audio recorded with a smart phone. 

Atlas.ti was used to analyse the data and the route of a thematic content analysis was followed. Different codes were allocated to the data and it was categorised according to the research questions and the main themes of the study. The data was transcribed and verified with the participants for accuracy and completeness. 

The participants signed a consent form and they were assured that they could withdraw from the study at any time and if so, their data would be destroyed. Pseudonyms were used and the participants were assured of their anonymity and confidentiality.

It was found that all the teachers use big modern TVs connected to their personal laptops in their classes. They use the TVs to show films of prescribed books, videos and PowerPoint presentations. They have access to Wi-Fi and the internet. One of the teachers also uses a visualizer for geography. In the classes of the younger teachers, learners are sometimes allowed to use their cell phones to Google something, but mainly for the Kahoot application, which is used as revision after the lesson. The school has a computer lab that the learners may use if necessary. The teachers are positive about the use of technology in their classes and they are satisfied with the infrastructure and the support that they receive from the school management. The school gives them what they need to use the available technology to its full potential.

The biggest challenge is that learners lose attention when they use their cell phones. For this reason, three of the five participants do not allow learners to use cell phones in their classes. Another challenge for the teachers was that the initial preparation with technology took a lot of time and effort, but all of them agree that they are comfortable with the technology now and that it was worth the trouble. Power failures and connectivity problems are also considered drawbacks. 

The teachers are in agreement that the learners are part of a generation that grew up with technology and that they know it better than the teachers themselves. The learners can help the teachers if they need it. The teachers are of the opinion that they use the technology frequently because it is easy to use and useful in their classes. The use of the technology is also dependent on the subject they teach and the content of a specific lesson.

It is recommended that the school obtains devices that only contain the necessary work and applications required, so that they are ready for use by teachers and learners cannot be distracted by other content.

Keywords: challenges; learners; learning disabilities; teachers; technology; Technology Acceptance Model

 

1. Inleiding/agtergrond

Tegnologie vorm wêreldwyd ’n integrale deel van die hedendaagse lewe. Daar word internasionaal aanvaar dat die gebruik van tegnologie in opvoedkunde leerders by klasaktiwiteite betrek en daarmee saam ’n positiewe onderrigervaring kan verseker (Yemothy 2015). Ten spyte van die vinnige ontwikkeling van tegnologie, ondervind onderwysers in Suid-Afrika steeds vele uitdagings wat gepaard gaan met die gebruik en integrering van tegnologie in die klaskamer (Nokwali, Mammen en Maphosa 2015). Tegnologie het die potensiaal om die lewensgehalte van leerders met leerhindernisse te verbeter (Lamichhane 2013). Die vinnige ontwikkeling van rekenaargebaseerde tegnologie het die beskikbare opsies vir gestremde leerders heeltemal verander en die isolasie en gebrekkige akademiese geleenthede wat hulle in die verlede ondervind het, beëindig (Pinantoan 2012). 

Leerders met spesifieke leerhindernisse is ’n unieke groep leerders wat gekenmerk word daaraan dat hulle oor gemiddelde tot bo-gemiddelde intelligensievlakke beskik, maar op skool onder hul vermoë presteer (Galloway 2007). Volgens die Learning Disabilities Association of America (2020) is spesifieke leerhindernisse ’n versamelnaam vir ’n verskeidenheid leeruitdagings soos disleksie, diskalkulie, disgrafie, en ontoereikende taal- en/of leesbegrip. Hierdie spesifieke leerdergroep het unieke onderrigbehoeftes wat onderwysers noodsaak om hul pedagogie aan te pas om by die leerderprofiele se spesifieke onderrig- en leerbehoeftes aan te pas (Nel, Tlale, Engelbrecht en Nel 2016).

Ten spyte van die algemene beskikbaarheid van ’n verskeidenheid tegnologiese hulpbronne (soos rekenaars, tablette en slimfone) ondervind sommige onderwysers nog steeds probleme om tegnologie met vakinhoud in die klas te integreer (Taylor en Van der Merwe 2019). Dit word veral toegeskryf aan ouderdom en meer onderrigervaring. Hierdie onderwysers ervaar dikwels die gebruik van tegnologie as onnodig (Alshammari, Reyes en Parkes 2016). Hulle glo dat die gebruik van tegnologie in die klaskamer dissipline ontwrig en hul werk negatief beïnvloed (Hyndman 2018). ’n Gebalanseerde benadering kan egter lei tot nuwe ervarings, ontdekkings en nuwe maniere waarop onderrrig en leer kan plaasvind. Himmelsbach (2019) beklemtoon dat tegnologie nie veronderstel is om die onderwyser in die klas te vervang nie, maar eerder moet bydra tot ’n aanpasbare leeromgewing waar leerders aangemoedig word om betrokke te raak.

’n Aantal faktore stel Suid-Afrikaanse leerders bloot aan gesondheidstoestande wat kan lei tot fisieke, kognitiewe, gehoor-, visuele, intellektuele, gedrag- en sielkundige gestremdhede wat tot leergestremdhede bydra. Hierdie faktore hou verband met die volgende: infeksies in die sentrale senuweestelsel, koors, onhigiëniese toestande, parasitiese siektes, besmette water, gebrek aan sanitasie, voedingstekort, wanvoeding, nie-opsetlike kinderbesering (val, brandwonde), opsetlike besering (trauma, geweld, liggaamlike, emosionele en seksuele kindermishandeling, sowel as verwaarlosing van kinders) (UNICEF 2012).

Suid-Afrika het ’n eiesoortige politieke, sosio-ekonomiese en onderwyskultuur wat aanhoudend verander. Daarmee saam moet onderwysers wat leerders met leerhindernisse onderrig selfs groter uitdagings hanteer (Nel e.a. 2016; Nel en Grosser 2016). Dit is daarom belangrik om te bepaal wat die unieke behoeftes van hierdie groep onderwysers is. As die spesifieke behoeftes bepaal is, sal die nodige ondersteuning aan die onderwysers gebied kan word ten opsigte van professionele ontwikkeling, opleidingsmoontlikhede en die ontwikkeling en gebruik van tegnologie.

Hierdie navorsing het eerstens ten doel gehad om te bepaal hoe onderwysers tegnologie gebruik tydens die onderrig en leer van leerders met spesifieke leerhindernisse. Ons wou verder bepaal watter soort tegnologie gebruik word, en wat die grootste uitdagings is wat onderwysers met die gebruik van tegnologie tydens die onderrig van leerders met leerhindernisse ervaar. Ons wou ook bepaal wat onderwysers se siening is van die waarde wat tegnologie tot hul onderrigaktiwiteite kan toevoeg. Laastens wou ons bepaal watter faktore onderwysers verhoed om tegnologie te gebruik tydens die onderrig en leer van leerders met spesifieke leerhindernisse. Die doel van die studie was egter nie om te veralgemeen nie, maar slegs om beter te probeer verstaan hoe tegnologie deur onderwysers in ’n privaat remediërende skool gebruik word, aangesien daar baie min beskikbare data op hierdie gebied in Suid-Afrika is (Olivier 2018).

 

2. Navorsingsvrae

2.1 Primêre vraag

Hoe gebruik onderwysers tegnologie tydens die onderrig van leerders met leerhindernisse? 

2.2 Sekondêre vrae

2.2.1 Watter tipe tegnologie gebruik onderwysers tydens die onderrig van leerders met leerhindernisse?

2.2.2 Wat is die grootste uitdagings wat onderwysers ervaar met betrekking tot die integrasie van tegnologie tydens die onderrig en leer van leerders met leerhindernisse?

2.2.3 Wat is onderwysers se houdings teenoor die gebruik van tegnologie vir leerders met leerhindernisse?

2.2.4 Watter eksterne faktore verhoed dat onderwysers tegnologie gebruik tydens die onderrig van leerders met leerhindernisse?

 

3. Literatuuroorsig

Die gebruik van tegnologie in die onderwys hou verskeie voordele vir beide leerders en onderwysers in (Ranasinghe en Leisher 2009). Die sukses lê egter in die onderwyser se vermoë om tegnologie tot almal se voordeel te gebruik en sodoende ’n positiewe leerervaring tydens onderrig en leer te verseker (Mumtaz 2000). Cumming (2010) bevestig dat tegnologie ’n waardevolle rol kan speel as motivering vir leerders met spesifieke leerhindernisse.

3.1 Leerhindernisse

Hierdie studie handel oor die gebruik van tegnologie vir leerders met leerhindernisse, daarom word daar eerstens gekyk na watter leerhindernisse bestaan en hoe dit gedefinieer kan word. Die NJCLD (National Joint Committee for Learning Disabilities) (2016) sowel as die Suid-Afrikaanse Nasionale Departement van Onderwys: Witskrif 6 (2001) definieer leerhindernisse as ’n algemene en oorkoepelende term wat gebruik word om ’n breë spektrum intrinsieke sowel as ekstrinsieke leergestremdhede in te sluit (Nel en Grosser 2016). Intrinsieke leergestremdheid is waarskynlik die gevolg van ’n disfunksie van die sentrale senuweestelsel. Dit sal daarom die individu se akademiese prestasie regdeur sy lewe negatief beïnvloed (NJCLD 2016). Ekstrinsieke leerprobleme word dikwels toegeskryf aan eksterne faktore soos sosio-ekonomiese, sistemiese en pedagogiese faktore (Nel en Grosser 2016). Kruger (2019) bevestig dat leerhindernisse enige van die bogenoemde gestremdhede kan insluit en sodoende die leerder daarvan sal weerhou om sy volle potensiaal te bereik. Die NJCLD gaan verder en verduidelik dat persone met leerhindernisse dikwels ander intrinsieke uitdagings ervaar ten opsigte van gedrag, sosiale interaksie sowel as emosionele probleme. Bogenoemde probleme word egter nie as gestremdhede geklassifiseer nie, maar eerder as bydraende faktore. Ekstrinsieke probleme soos taal- en kultuurverskille asook onvoldoende en/of ontoepaslike onderrig word dikwels as bydraende faktore beskryf (NJCLD 2016). 

Leerhindernisse word dikwels waargeneem by leerders met kliniese diagnose van die volgende: 

3.1.1 Intrinsieke oorsake van leergestremdheid

Intrinsieke leergestremdheid word gekenmerk deur ’n disfunkie van die sentrale senuweestelsel van die persoon wat toegeskryf kan word aan die persoon se genetika, teratogenies is, of ander mediese en/of gesondheidsprobleme insluit. Ontwikkelingsfaktore en organiese of ekologiese faktore kan ook by dié kategorie ingesluit word (Jooste en Jooste 2011).

Genetiese oordrag verwys na die oordrag van leerprobleme binne ’n familie. Dednam (2011) bevestig dat daar bewyse is dat 35–45% van leerders met leerprobleme se ouers dieselfde probleme het.

Ongebore babas wat oormatig blootgestel word aan teratogeniese middels soos alkohol, dwelms en nikotien se ontwikkeling word dikwels nadelig beïnvloed. Hierdie leerders word gekenmerk deur aandagafleibaarheid, gedrags- en intellektuele probleme, verbale en nie-verbale uitdagings sowel as sensoriese gestremdhede (Jooste en Jooste 2011; UNICEF 2012).

Mediese en gesondheidsrisikofaktore is die oorsaak van sensoriese probleme soos gehoor- en gesigsprobleme, neurologiese uitvalle soos serebraalgestremdheid, epilepsie, fisiese gestremdheid, kommunikasiegebreke, aandagafleibaarheid en geheueprobleme. Kognitiewe en intellektuele gestremdhede val ook in hierdie kategorie. Hierdie leerders het dikwels uitdagings met sosiale interaksie, het ’n lae selfbeeld en vind dit uiters moeilik om by voorgeskrewe reëls te hou (Jooste en Jooste 2011).

Sommige leerders ontwikkel stadiger as hul eweknieë en daarom vorder hulle ook stadiger ten opsigte van taal-, lees-, motoriese, intellektuele en sosiale vaardighede. Hierdie leerders het dikwels ook ’n agterstand ten opsigte van hul perseptuele vermoëns en sukkel om hul sintuie effektief te gebruik om inligting en stimulante te interpreteer. Hul agterstand manifesteer daarom dikwels op een of meer van die volgende gebiede (Nel, Nel en Hugo 2012):

  • Visuele en ouditiewe persepsie: die leerder se vermoë om te herken en visueel te interpreteer, of ouditiewe sensoriese inligting te verwerk.
  • Visuele en ouditiewe diskriminasie: die vermoë om tussen klanke of onderwerpe te diskrimineer.
  • Visuele en ouditiewe geheue: die vermoë van die leerder om onderwerpe of klanke te onthou.
  • Visuele en ouditiewe opeenvolging: die vermoë om inligting te ontvang en in volgorde te plaas, byvoorbeeld letterorde in ’n woord of die volgorde van ’n storie.

Organiese en ekologiese faktore soos ’n wanbalans in neuro-oordragstowwe of ’n hormoonwanbalans kan aandagafleibaarheid veroorsaak wat tot leergestremdheid bydra. Indien proteïene en vitamiene nie effektief gemetaboliseer word nie of oordrewe afgeskei word, kan dit lei tot hipo- of hiperaktiwiteit (Dednam 2011). 

3.1.2 Ekstrinsieke oorsake van leergestremdheid

Veral in ontwikkelende lande soos Suid-Afrika kan sosio-ekonomiese faktore soos armoede, wanvoeding, swak huislike omstandighede, werkloosheid, geweld en dwelm- en middelmisbruik ook tot leerders se onderontwikkeling en gepaardgaande leerprobleme bydra (Heward 2010). Indien die ouers ongeletterd is of ver van die huis af werk, is daar nie noodwendig enigiemand om die leerder akademies te ondersteun nie en dit vererger slegs die probleem. Swak voeding dra dikwels by tot bewegingsinperking, intellektuele, gedrags- en kognitiewe disfunksies (UNICEF 2012).

Sistemiese faktore soos ontoereikende onderrig, swak fasiliteite soos geen tegnologiese hulpmiddele, onopgeleide onderwysers en te min menslike hulpbronne kan ook daartoe bydra dat leerders nie toepaslik gestimuleer word nie en daarom ook akademiese agterstande ontwikkel (Donald, Lazarus en Lolwana 2010).

Pedagogiese hindernisse sluit in ’n onaanpasbare kurrikulum, onbuigsame aanbieding van lesinhoud en assesseringsmetodes (Geldenhuys en Wevers 2013). In Suid-Afrika ontvang leerders dikwels in hul tweede of selfs derde taal onderrig en dit kan ook ’n uitdaging wees vir leerders wat reeds sukkel. Dit kan lei tot misverstande tussen onderwysers en leerders en is een van die hoofredes waarom leerders verkeerdelik as leergestrem gediagnoseer kan word (Heugh 2015).

3.1.3 Aandagafleibaarheid en hiperaktiwiteitsindroom

Nel en Grosser (2016) skryf dat aandagafleibaarheid en hiperaktiwiteitsindroom by meer as 50% van leerders met leergestremdhede gediagnoseer word. Aandagafleibaarheid en/of hiperaktiwiteitsindroom is ’n kliniese diagnose wat deur ’n mediese spesialis gemaak word. Die Diagnostic and Statistical Manual (DSM-5) of Mental Disorders vereis dat ’n persoon ’n aantal simptome vir meer as ses maande van ’n jaar moet toon voordat ’n diagnose gemaak kan word (American Psychiatric Association 2013). Hiperaktiwiteit, aandagafleibaarheid en impulsiwiteit wat bydra tot funksionele inkorting is van die simptome wat moet voorkom voordat ’n leerder gediagnoseer kan word. Hierdie simptome moet ook in sowel die skool- as die huisomgewing teenwoordig wees. Leerders met leerhindernisse het dikwels ook primêre of sekondêre aandagafleibaarheid met of sonder hiperaktiwiteit. Onderwysers en mede-leerders vind hierdie gedrag dikwels steurend (Gaastra, Groen, Tucha en Tucha 2016). Volgens ’n studie van Bester (2006) het mededelings deur deelnemers aan die lig gebring dat praktiese hanteringsmaatreëls help om die uitdagings van ’n leerder met hiperaktiwiteitsindroom draagliker te maak. Deelnemers het veral beklemtoon dat die volg van ’n streng roetine en die toepassing van reëls, dissipline en konsekwente optrede die uitdagings van ’n kind met hiperaktiwiteitsindroom meer hanteerbaar maak en die lewensgehalte van gesinslede en onderwysers verbeter.

3.1.4 Diagnosekriteria

Die volgende kriteria word in Suid-Afrika gebruik om leerders met leerhindernisse te diagnoseer (American Psychiatric Association 2013; Nel e.a. 2012; Dednam 2011):

  • Probleme met kognitiewe strategieë.
  • Swak aandag, geheue en organisasievaardighede.
  • Uitdagings wat verband hou met ouditiewe en perseptuele vaardighede, sowel as swak motoriese vaardighede, soos disgrafie.
  • ’n Merkwaardige verskil tussen akademiese potensiaal en prestasie.
  • Swak sensoriese integrasie.
  • Uitdagings ten opsigte van die leerder se reseptiewe sowel as uitgesproke taalvaardigheid. Hierdie uitdagings lei daartoe dat leerders sukkel om te verstaan en opdragte met moeite uitvoer. Hulle sukkel dikwels ook met geskrewe en verbale kommunikasie, dus sukkel hulle om te skryf, lees en spel. Disleksie word hierby ingesluit.
  • Baie van hierdie leerders sukkel met wiskundige vaardighede, dikwels as gevolg van swak taalvaardigheid.
  • Baie leerders met leerprobleme sukkel met sosiale en emosionele integrasie omdat hulle so gereeld faal om hul doelwitte te bereik.
  • Gedragskenmerke soos stadige werkstempo, jaag deur werk, lompheid, skaamheid, hiperaktiwiteit en impulsiwiteit is ook kenmerkend van leerders met leerhindernisse.

3.2 Beleid oor die gebruik van tegnologie en hoe om leerders met spesiale behoeftes in te sluit

Die Departement van Basiese Onderwys (2001) verklaar in Witskrif 6 dat leerhindernisse eerder as gevolg van die onderwysstelsel as die leerder voorkom. Die begrip van insluiting is op hierdie mening gebaseer. Landsberg, Krüger en Swart (2011) beskryf inklusiewe onderrig as die erkenning dat alle leerders kan leer, verskillend leer en verskillende behoeftes het, wat ewe waardevol is. Inklusiewe onderrig kan ook na ’n raamwerk verwys wat die verskille van alle leerders en hul verskillende leerbehoeftes insluit, leerhindernisse erken en alle leerders volgens hul behoeftes akkommodeer (Departement of Basic Education 2001).

Daar is verskeie beleidsgeskrifte en wette in Suid-Afrika wat ten doel het om probleme as gevolg van gestremdheid en die gevolglike uitsluiting van leerders te bekamp. Sommige van hierdie geskrifte is die Witskrif oor Onderwys en Opleiding (1995), die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996 en die Witskrif oor ’n Geïntegreerde Nasionale Gestremdheidstrategie (1997) (Galloway 2007; Mathopa 2007). Die Suid-Afrikaanse regering het hierdie lys uitgebrei deur te verwys na die Witskrif oor Wetenskap, Tegnologie en Ontwikkeling (2019) en die Witskrif oor die regte van persone met gestremdhede (2016). Die Onderwysdepartement (1997) in die Nasionale Kommissie oor Spesiale Behoeftes in Onderrig en Opleiding het beginsels voorgestel wat aangeneem moet word om leerders met leerhindernisse in Suid-Afrika te ondersteun (Kruger en Adams 1998; Kokot 2006), soos:

  • respek en geen diskriminasie teenoor leerders;
  • die reg tot gehalte-onderrig vir alle leerders;
  • die geleentheid vir alle leerders om aan die onderrigstelsel deel te neem;
  • die reg van alle leerders om aktief aan die kurrikulum deel te neem;
  • die reg van alle leerders om die nodige ondersteuning te ontvang om hulle in staat te stel om toegang tot inhoud te hê.

Daar is ook beleidsdokumente en wette in Suid-Afrika wat daarop ingestel is om seker te maak dat tegnologie in onderrig geïntegreer word. Hierdie dokumente sluit Witskrif 6: Spesiale behoefte-onderrig (2001) en die Witskrif oor e-onderrig (2004) in. Die Onderwysdepartement (2001) het verklaar dat inligtings- en kommunikasietegnologie geïmplementeer moet word om die volle omvang van leerbehoeftes te dek. Die Onderwysdepartement (2004) het in die Witskrif oor e-onderrig beplan om inhoud vir leerders met leerhindernisse toeganklik te maak.

3.3 Voordele verbonde aan die gebruik van tegnologie tydens onderrig en leer

In ’n era van tegnologiese vooruitgang en die vierde industriële revolusie is dit onderwysers se verantwoordelikheid om leerders voor te berei vir die arbeidsmag ná skool (Marr 2019). Dit is daarom noodsaaklik dat leerders reeds tegnologies vaardig moet wees wanneer hulle die skool verlaat. Onderwysers kan reeds vroeg begin om leerders voor te berei deur hulle soveel as moontlik bloot te stel aan ’n verskeidenheid hulpbronne soos rekenaars, slimfone en tablette met ’n verskeidenheid toepassings soos ZOOM, Microsoft Teams, opvoedkundige speletjies en vakgerigte toepassings. Quizlet is ’n gratis aanlyn toepassing wat deur leerders gebruik kan word om informeel te leer. Die toepassing is interaktief en die onderwyser kan spesifieke vakinhoud skep wat die leerders kan gebruik soos flitskaarte, blitstoetse en pas-by-mekaar (Stauffer 2019). Deur byvoorbeeld toepassings soos Quizlet in die klas te gebruik word leerders blootgestel aan tegnologie wat hulle bemagtig, omdat hul kritiese denkvermoë ontwikkel word, terwyl daar van hulle verwag word om probleme op te los. Inligting word visueel en interaktief aan die leerders oorgedra wat daartoe bydra dat hulle makliker verstaan. Komplekse begrippe kan met behulp van simulasies aan die leerders verduidelik word soos byvoorbeeld ’n YouTube-video (Ranasinghe en Leisher 2009; Botha 2015). 

Pine-Thomas (2017) is van mening dat tegnologie op sigself geen direkte invloed of voordeel vir die onderwyser of onderwyspraktyk inhou nie. Sy voel egter sterk daaroor dat die wyse waarop onderwysers en leerders tegnologie as noodsaaklike hulpmiddel tot onderrig en leer aanwend, enorme voordele vir beide kan inhou. Sy gaan verder en beklemtoon die belangrikheid daarvan om tegnologie nie alleenlik in die klaskamer te gebruik nie, maar om tegnologie in die onderwyspraktyk te integreer. Sy beskryf tegnologie-integrasie as die proses waartydens tegnologie in alle aspekte van onderrig en leer ingespan word om spesifieke doelwitte binne sowel as buite die klaskamer te bereik, asook om te assesseer. Sy glo daarom dat as tegnologie effektief in die klaskamer aangewend word, dit die leerders sal ondersteun, verryk en hul kritiese denke sal stimuleer en ontwikkel (Pine-Thomas 2017). Botha (2015) is van mening dat die waarde van tegnologie nie bepaal kan word as die onderwyser oor die nodige fasiliteite beskik maar dit nie in die klaskamer gebruik word nie.

Die Departement van Basiese Onderwys (2004) het in Witskrif 7 oor e-onderrig berig dat die integrasie van tegnologie in onderrig baie voordele kan hê. Hierdie voordele sluit hoërordedenke, probleemoplossing, kreatiwiteit en redeneervaardighede in. Tegnologie skep ’n inklusiewe omgewing waar onderrig en leer by die behoeftes van die leerder aangepas kan word (Bagon, Gačnik en Starčič 2018). Florian en Hegarty (2004) is ook van mening dat tegnologie ’n gelyke geleentheid om te leer aan leerders met leerhindernisse bied as gevolg van die leerondersteuning wat dit bied. 

3.4 Nadele wat tegnologie betref 

Volgens Neves (2020) bestaan daar ’n diep ongelykheid met betrekking tot konnektiwiteit, hardeware en stabiliteit in huishoudings om aanlyn leer moontlik te maak, spesifiek in lae-inkomstegebiede in Suid-Afrika. Landelike skole het dikwels nie toegang tot noodsaaklikhede soos lopende water en elektrisiteit nie en daar is min geleenthede om ondersteunende tegnologie in hierdie gebiede te integreer (Du Plessis 2014). Die Departement van Basiese Onderwys (2014) het gereageer deur ’n aksieplan te publiseer om die 2013-doelwit om elke onderwyser, bestuurder en leerder rekenaargeletterd te kry, in 2025 te realiseer, in die besonder dat onderwysers hul rekenaargeletterdheid deur die loop van hul beroep moet verbeter en dat leerders toegang tot ’n wye verskeidenheid van media, veral rekenaars, moet kry. Al bestaan hierdie doelwitte en strategieë, is Meyer en Gent (2016) van mening dat die implementering daarvan stadig is: die doelwitte is onduidelik, die strategie is onvoldoende en toegang tot tegnologie is beperk. Volgens Meyer en Gent (2016) is daar baie ander probleme met die beskikbaarheid van ondersteunende tegnologie. Hierdie probleme sluit in die hoë koste van konnektiwiteit, onstabiele internetverbindings, sekuriteitsprobleme, onderhoud van die ondersteunende toestelle en ’n behoefte aan uitgebreide opleiding. Adu (2016) het ook verduidelik dat daar ’n tekort aan toestelle is, sowel as ondersteuning van onderwysers om die toestelle te gebruik. 

3.5 Beskikbare tegnologie

Botha (2015) skryf dat tegnologie daagliks in alle fasette van die lewe gebruik word om waarde tot ons lewens toe te voeg en take te vergemaklik. As tegnologie effektief in die onderwyspraktyk geïntegreer word, kan dit beide onderwyser en leerder help om meer produktief te wees. Daar is tans ’n wye verskeidenheid veelsydige apparate (toerusting) beskikbaar op die mark soos byvoorbeeld tradisionele rekenaars, skootrekenaars, hibriede rekenaars, tablette en slimfone. Sagteware sluit ’n verskeidenheid programmatuur, internet en toepassings in (Pine-Thomas 2017). Botha (2015) verduidelik dat studiemateriaal of spesifieke klasse met ’n kamera en/of mikrofoon opgeneem en digitaal aan leerders beskikbaar gestel kan word. Slimfone kan as sakrekenaars en/of woordverwerkers gebruik word.

Volgens Olivier (2018) is daar ’n beperkte aantal oop (gratis aanlyn) Afrikaanse opvoedkundige bronne beskikbaar. Hy bevestig dat daar ’n groot behoefte aan die ontwikkeling van meer gebruikersvriendelike toepassings in Afrikaans is.

Daar bestaan verskeie soorte tegnologieë, harde- en sagteware ingesluit, wat tot leerders met leerhindernisse se voordeel aangewend kan word.

3.5.1 Rekenaarbedryfstelsels

Hier word verwys na die pakket wat die rekenaar bedryf soos byvoorbeeld Windows. Bedryfspakette word gewoonlik deur die vervaardigers ontwikkel en kan ook as die brein van die rekenaar gesien word. Microsoft se Ease of Access bied die volgende voordele (Microsoft 2018): 

  • Gebruik die rekenaar sonder ’n skerm. Die rekenaarverteller beskryf elemente op die skerm, soos teks en knoppies, die gebruiker se gehoor word sterker ingespan.
  • Sien wat op die skerm is. Die inhoud op die skerm word met behulp van ’n vergrootglas vergroot, of die rekenaar se agtergrondkleur kan aangepas word deur middel van ’n hoëkontrasterende modus.
  • Gebruik van die sleutelbord. Skakel kleefknoppies, wisselsleutels, filtersleutels of die sleutelbord op die skerm aan.
  • Gebruik die muis. Verander die wysergrootte, of skakel die muissleutels aan om jou sleutelbord te gebruik om die muis te beweeg.

Hierdie bedryfstelsels kan effektief in die inklusiewe klaskamer aangewend word as leerders met byvoorbeeld sig- of gehoorprobleme vergrotings of klankfunksies gebruik (Microsoft 2018). Indien die leerder met skrifprobleme die mikrofoonfunksie gebruik, kan hul antwoorde opgeneem en so aan die onderwyser oorgedra word.

3.5.2 Woordvoorspellingsagteware

Hierdie sagteware voorspel eenvoudig wat die gebruiker se volgende sleutels of woorde gaan wees. Hierdie funksie kan waarskynlik effektief aangewend word vir leerders met ’n spesifieke leerhindernis ten opsigte van skryfvaardigheid (Kikusal 2018). Sommige leerders mag verkies om Spraak na teks-toepassings te gebruik. Hierdie toepassings laat die gebruiker toe om praat, terwyl die toepassing die inhoud oorskryf.

3.5.3 Beskikbare apparate

Die meeste leerders verkies deesdae om hul slimfone te gebruik aangesien dit klein en mobiel is. Die leerders gebruik ook slimfone om alledaagse take mee uit te voer en dit is daarom waarskynlik die apparaat van keuse (Kikusal 2018). Mavhangu, Kibirige, Chigonga en Ramaboka (2016) het bevind dat alhoewel nie alle leerders in Suid-Afrika oor ’n slimfoon of soortgelyke apparaat beskik nie, daar tog ’n beduidende hoeveelheid leerders is wat wel slimfone het. Die leerders gebruik veral die apparate om inligting oor die internet te bekom. Hulle gebruik ook die video- en klankopnamefunkies op hul fone.

3.5.4 Toepassings

Beide Apple (App Store) en Google (Android App) se toepwinkels bemark ’n verskeidenheid toepassings wat op leerders met leerhindernisse gemik is. Die webwerf Tech Advocate (2017) beveel die gebruik van die volgende toepassings aan:

  • ModMath help leerders met disleksie en disgrafie om wiskundige probleme op te los.
  • My TalkTools Mobile is ’n effektiewe kommunikasietoep wat leerders help om met behulp van klanke en prentjies te kommunikeer.
  • Dislexia Toolbox word deur dislektiese persone vir dislektiese persone bemark.
  • If. The emotional IQ Game is ’n speletjie wat leerders help om hul emosionele intelligensie te ontwikkel.
  • Stop, Breathe & Think is ontwerp om leerders met angs- en spannings-versteurings te help om te ontspan.
  • Voice Dream Reader is ontwerp om persone met leesuitdagings en ADHD te help. Die gebruiker merk ’n spesifieke gedeelte en die program lees dit terug.
  • Autism Xpress is spesifiek ontwerp om persone met outisme te help om met behulp van ’n speletjie uiting aan hul emosies te gee.

Persoonlike ervaring het egter geleer dat hierdie en baie ander uitstekende toepassings nog nie in Afrikaans beskikbaar is nie. Olivier (2018) bevestig die behoefte aan die ontwikkeling van meer gratis aanlyn Afrikaanse toepassings. Olivier (2018) se navorsing het ook aangedui dat baie van die beskikbare Afrikaanse toepassings nie gebruikersvriendelik is nie. Van Huyssteen, Botha en Antonites (2016) het gevind dat Afrikaanse gebruikers probleme ondervind met die akkuraatheid van die beskikbare vertalingstoepassings. Hulle verduidelik dat ’n toepassing soos Google Translate gebruik kan word om enkele woorde te vertaal, maar dat dit heeltemal oneffektief en onakkuraat is as ’n hele paragraaf vertaal moet word.

3.5.5 Toerusting

Beskikbare hardeware is veelsydig en verander gedurig. Vervaardigers vervang en gradeer tegnologie gereeld op. Leerders met leerhindernisse kan maklik skootrekenaars en tablette gebruik omdat dit lig en draagbaar is. Vir leerders met disgrafie (handskrifgebreke) kan hierdie toestelle die hoeveelheid en gehalte van notas verbeter (Vaughn en Bos 2009). 

Volgens Pine-Thomas (2017) het Ajzen en Fishbeinander reeds in 1977 geredeneer dat ’n gebruiker se reaksie op ’n voorwerp verband hou met sy/haar algehele beskouing van daardie voorwerp. Met ander woorde, die gebruiker se behoefte om tegnologie tot sy/haar voordeel te gebruik sal bepaal hoe effektief hy/sy die tegnologie sal aanwend of integreer al dan nie. Indien die onderwyser dus nie die behoefte en voordele identifiseer nie, sal hy/sy nie die toerusting gebruik of die gebruik daarvan aanmoedig nie (Botha 2015).

3.5.6 Ondersteunende tegnologie

Ondersteunende tegnologie verwys na toestelle en dienste wat gebruik word om die vermoëns van ’n leerder met ’n gestremdheid te handhaaf, verbeter of verhoog (Dell, Newton en Petroff 2012). Terwyl die frase ondersteunende tegnologie ons aan rekenaartoestelle laat dink, kan dit ook iets so eenvoudig wees soos die plastiek wat oor ’n potlood getrek word om dit makliker vas te hou. Onderwysers en leerders moet opgelei word om die tegnologie betekenisvol in die akademiese konteks te integreer (Dell, Newton en Petroff 2012).

Die term ondersteunende tegnologie beteken enige item, toerusting, produk of sisteem, kommersieel van die rak verkry, gewysig of aangepas, wat gebruik word om die funksionele vermoëns van ’n leerder met gestremdhede te handhaaf of te verbeter (Bowser en Reed 1995). Leerders met leerhindernisse ervaar dikwels probleme met funksionele vermoëns soos skryf, lees, studeer, luister, om toegang tot die kurrikulum te verkry en organisering. ’n Leerder mag dalk ’n optelmasjien in wiskunde nodig hê of ’n tablet benodig om notas te maak eerder as om te skryf (Bowser en Reed 1995).

Baie inligting bestaan oor die keuses en toeganklikheid van ondersteunende tegnologie, maar veral in ontwikkelende lande word die kapitaal en vaardighede om dit vir leerders met gestremdhede te gebruik, benodig. ’n Wye reeks tegnologie skep nuwe keuses vir leerders met leergestremdhede (Botha 2015).

Ondersteunende tegnologie kan leerders met leerhindernisse onafhanklik maak. Hierdie leerders maak dikwels op gesinslede, vriende en onderwysers staat vir bystand (Mutanga 2017). Om op ander te vertrou mag die oorgang na volwassenheid vertraag en selfrespek verlaag aangesien hierdie leerders dikwels op ander vertrou om probleme op te los. Ondersteunende tegnologie verskaf ’n manier aan leerders met leerhindernisse om spesifieke take op hul eie te doen (Mutanga 2017).

3.6 Onderwysers se tegnologiegebruik

Pine-Thomas (2017) dokumenteer die volgende faktore wat onderwysers negatief stem om inligtings- en kommunikasietegnologie in hul onderwyspraktyk te integreer:

  • ’n Gebrek aan ondervinding, opleiding en/of vaardighede, gebrekkige inligting, gebrek aan ondersteuningsdienste deur die instansie.
  • Gebrekkige toesig of hulp aan leerders tydens die gebruik van tegnologie.
  • Die beskikbaarheid van toerusting in die klas.
  • Te min tyd beskikbaar.
  • Gebrekkige/onvoldoende finansiële ondersteuning (Pine-Thomas 2017).

Botha (2015) bevestig Pine-Thomas (2017) se bevindinge en voeg misdaad as ’n bydraende faktor by waarom onderwysers soms nie tegnologie wil gebruik nie. Hy lê ook klem op die belangrikheid daarvan om ’n toepaslik gekwalifiseerde en ervare persoon op die skoolterrein te hê om die onderwysers te ondersteun en die nodige opleiding aan die onderwysers te verskaf. Botha (2015) lê ook klem op die belangrikheid daarvan om tegnologie te onderhou en gereeld op te gradeer.

Harrell en Bynum (2018) bevestig dat onderwysers negatief beïnvloed word as gevolg van swak infrastruktuur by skole. As die infrastruktuur, byvoorbeeld die internetkonneksie, nie konstant betroubaar is nie, het dit ’n negatiewe impak op die beplande les en sy uitvoering. Die klaskamer moet ook genoegsaam toegerus wees om die toerusting te kan akkommodeer soos byvoorbeeld genoeg kragproppe (Harrell en Bynum 2018).

Mumtaz (2000) het ’n uitgebreide literatuurstudie gedoen oor faktore wat onderwysers motiveer om inligtings- en kommunikasietegnologie te gebruik. Hy het tot die slotsom gekom dat daar drie hooffaktore is wat onderwysers motiveer om tegnologie te gebruik, naamlik die instansie, beskikbaarheid van hulpbronne en die onderwyser self (Mumtaz 2000).

Genoeg van die regte tipe toerusting vir elke leerder is ’n vereiste om tegnologie effektief in die klas te kan integreer. Harrell en Bynum (2018) bevestig dat daar selfs in van die Amerikaanse skole nie genoeg befondsing is om te verseker dat elke leerder die nodige toerusting besit nie. Dit veroorsaak volgens Harrell en Bynum (2018) groot frustrasie vir beide leerders en onderwysers. Volgens Harrell en Bynum (2018) se navorsing het so min as 13% van leerders toerusting skool toe gebring vir eie gebruik toe daar vir hulle gevra is om hul eie apparaat skool toe te bring. 

Swak en/of onvoldoende opleiding en ervaring in die gebruik van tegnologie is nog ’n faktor wat onderwysers negatief teenoor die gebruik van tegnologie stem. Dit help nie as onderwysers slegs opleiding ontvang in die gebruik van tegnologie nie. Die deurbraak word gemaak wanneer die onderwysers opgelei word en genoeg ondersteuning ontvang totdat hulle vaardig is in die gebruik van die tegnologie (Harrell en Bynum 2018).

’n Swak selfbeeld is een van die grootste uitdagings waarmee onderwysers vandag worstel as dit by die gebruik van tegnologie kom (Harrell en Bynum 2018). Indien die onderwyser aan ’n lae selfbeeld ly en boonop sukkel met die gebruik van tegnologie kan hy/sy daarom ’n renons in tegnologie ontwikkel en selfs weier om te probeer. Volgens Harrell en Bynum (2018) is dit ’n groter uitdaging as wat baie mense besef, veral as in ag geneem word dat soveel as 62% van leerders in ’n onlangse studie aangedui het dat hulle beter as hul onderwysers weet hoe om met tegnologie om te gaan (Harrell en Bynum 2018). 

Onderwysers se beskouing ten opsigte van die waarde van die toerusting sal definitief ook die gebruik en implementering beïnvloed. Onderwysers sien tegnologie dikwels as iets wat baie tyd in beslag neem terwyl hulle baie ander belangrike take het wat voltooi moet word (Harrell en Bynum 2018).

Navorsing toon dat daar vele tekortkominge in die huidige beskikbare Afrikaanse toepassings is. Tans is die aanlyn toepassings in Afrikaans beperk en daar is ’n behoefte om die toepassings meer gebruikersvriendelik te maak, gratis beskikbaar te stel en uit te brei (Du Plessis 2016 en Olivier 2018).

Hieruit kan afgelei word dat infrastruktuur en ondersteuning deur die instansie, beskikbaarheid van genoeg en die regte toerusting, professionele opleiding en vaardighede, onderwyserselfbeeld en die onderwyser se beskouing van die implementering van tegnologie die bepalende eksterne faktore is. Die navorsers het die invloed van hierdie veranderlikes op die gebruik van tegnologie ondersoek.

 

4. Teoretiese raamwerk

Teoretiese raamwerk verwys na die teorie/raamwerk wat die navorser tydens die navorsingsproses lei. Die tegnologie-aanvaardingsmodel (TAM) is ’n raamwerk wat reeds in 1989 deur Fred Davis ontwikkel is om aan te dui hoe tegnologie deur die verbruiker aanvaar en gebruik sal word. Hy beweer dat nuwe verbruikers se besluit om nuwe tegnologie te gebruik deur ’n aantal faktore beïnvloed sal word (Davis 1989):

  • Verwagte bruikbaarheid kan gedefinieer word as die verbruiker se behoefte en beskouing ten opsigte van die spesifieke tegnologie se bruikbaarheid met die doel om werksvermoë en die gehalte van werk te verbeter (Davis 1989).
  • Verwagte gerieflikheid kan gedefinieer word as hoe maklik die verbruiker dit vind om die spesifieke apparaat te gebruik (Davis 1989).

Vir die doel van hierdie navorsing is die tegnologie-aanvaardingsmodel (TAM) as verwysingsraamwerk gebruik. Die TAM beskryf hoe onderwysers se beskouing van die gebruik van tegnologie in klaskamers in ooreenstemming is met die navorsers se aanname dat persoonlike ervarings, houding en eksterne faktore deel van die aanvaarding van tegnologie vorm. 

Davis (1989) se TAM verklaar waarom gebruikers tegnologie aanvaar al dan nie. Die TAM is ’n raamwerk vir inligtingstegnologie om gebruikers se aanvaarding en gebruik van opkomende tegnologieë, veral in die werksomgewing, te verstaan. Die teorie stel dat die persoon se voorneme om tegnologie te gebruik (aanvaarding van tegnologie) en gebruiksgedrag (werklike gebruik) gebaseer is op die persoon se siening van die bruikbaarheid van die spesifieke tegnologie (voordeel trek uit die gebruik van die tegnologie) en die gebruiksgemak. Eenvoudig gestel is gebruikers meer geneig om ’n nuwe tegnologie te gebruik as hulle dit bruikbaar, nuttig, wenslik en geloofwaardig vind. Die TAM stel ook voor dat beskouings van bruikbaarheid en gemak van gebruik bemiddel word deur eksterne veranderlikes, waaronder individuele verskille, stelselkenmerke, sosiale invloede en fasiliterende toestande (Portz, Bayliss, Bull, Boxer, Bekelman, Gleason en Czaja 2019).

Volgens hierdie model verseker die verbruiker se ervaring ten opsigte van die gerieflikheid en bruikbaarheid of hy of sy die tegnologie sal aanvaar en gebruik of verwerp. Gerieflikheid verwys na hoe moeilik of maklik die verbruiker die spesifieke tegnologie kan aanwend. Bruikbaarheid verwys na die mate waarin iemand glo dat tegnologie tot die verbetering van werksprestasie en werkverrigting sal bydra. Die TAM beskryf dat die verbruiker se bepaalde voorneme tegnologieverbruik sal beïnvloed. Die verbruiker se houding teenoor die waargenome nut van die tegnologie sal dus ’n bepalende faktor wees (sien figuur 1). Die TAM bepaal verder dat die verbruiker se waarneembare gemak van gebruik en waargenome nut sy/haar houding teenoor die gebruik van tegnologie beïnvloed. Die TAM teoretiseer daarom dat indien ’n persoon ’n positiewe houding teenoor die gebruik van tegnologie openbaar, hy/sy die tegnologie nuttig sal vind sowel as maklik sal gebruik. Die gebruiker se positiewe ingesteldheid teenoor tegnologie sal daarom verseker dat hy/sy die spesifieke tegnologie sal aanvaar en ook effektief sal gebruik (Davis 1989).

Figuur 1. Tegnologie-aanvaardingsmodel (Davis 1989)

Hierdie studie gebruik die TAM, op grond daarvan dat vroeër navorsing bevind het dat die TAM die mees invloedryke en diepgaande model is wat die aanvaarding van nuwe tegnologie help verklaar (Davis 1989). Ons wou bepaal watter van die volgende eksterne faktore onderwysers as invloede uitlig tydens die onderrig en leer van leerders met leerhindernisse:

  • Infrastruktuur en ondersteuning deur die instansie.
  • Beskikbaarheid van genoeg van die regte tipe toerusting.
  • Professionele opleiding en vaardighede van die onderwysers.
  • Onderwyserselfbeeld.
  • Die onderwyser se beskouing van die waarde van die implementering van tegnologie in die klaskamer.

Die onderwyser se beskouing ten opsigte van die bruikbaarheid van tegnologie sal weerspieël word in sy/haar houding teenoor die spesifieke tegnologie. Dienooreenkomstig sal die onderwyser se beskouing van die mate waartoe die gebruik van die tegnologie die lewe sal vergemaklik ook sy/haar houding beïnvloed. Daar kan dus afgelei word dat die onderwyser se beskouing ten opsigte van die bruikbaarheid en gerieflikheid van tegnologie sy/haar houding en daarom ook die suksesvolle implementering van tegnologie sal beïnvloed.

 

5. Navorsingsmetodes

Navorsingsmetodologie beskryf die strategiese plan of ontwerp wat deur die navorser gevolg word om meer oor die realiteit van die wêreld te leer (Sefotho 2018). Ons verwagtinge ten opsigte van die studieresultate sentreer rondom betekenis en begrip en daarom was ’n literatuurstudie, persoonlike ervarings, waarnemings en persoonlike diepgaande semi-gestruktureerde onderhoude die grondslag. Hierdie strategie pas goed in by die interpretivistiese benadering wat bepaal dat elke persoonlike ervaring uniek is en so gehanteer en geïnterpreteer moet word. 

5.1 Metodologie en paradigma

Filosofie kan gedefinieer word as ’n persoon se vermoë om rasioneel en krities te dink in sy soeke na wysheid. Daarteenoor is paradigma ’n filosofiese term wat gebruik word om ’n persoon se waardes en oortuigings te beskryf (Sefotho 2018). ’n Navorser se paradigma word bepaal deur die persoon se wêreldbeskouing en kan verduidelik word aan die hand van die navorsers se ontologie, epistemologie en metodologiese veronderstellings (Sefotho 2018).

Die woord ontologie verwys na ’n persoon se beskouing van die realiteit (Sefotho 2018). Interpretiviste glo dat daar nie slegs een objektiewe waarheid is nie. Realiteit word bepaal en beïnvloed deur die individu se persoonlike ervarings en perspektiewe (Davies en Hughes 2014). Die doel van hierdie studie was om te bepaal hoe onderwysers tegnologie gebruik tydens die onderrig van leerders met leerhindernisse. Ons het gepoog om onderwysers se individuele ervarings en beskouings ten opsigte van die gebruik van tegnologie in konteks te plaas. Daarom kan gesê word dat ons hierdie studie met ’n interpretivistiese paradigma benader het, ondersteun deur ’n gevallestudie-aanslag. Inligting is bekom deur persoonlike diepgaande semi-gestruktureerde onderhoude. Interpretivisme pas in ’n relativistiese ontologie waarin ’n enkele verskynsel veelvuldige interpretasies kan hê, eerder as ’n waarheid wat deur ’n metingsproses bepaal kan word. Met ’n interpretivistiese perspektief het navorsers ’n dieper begrip van ’n verskynsel en die kompleksiteit daarvan in ’n unieke konteks, in plaas daarvan om na die hele bevolking te veralgemeen (Creswell 2007).

Epistemologie verwys na hoe ’n persoon kennis verwerf, hoe die waarheid bepaal word, en hoe tussen feit en fiksie onderskei word. Epistemologie verwys ook na ’n persoon se vermoë om te kan waarneem, verstaan en redeneer (Maree 2016). Sosiale konstruktiviste beskou kennis as ’n sosiale verskynsel wat deur sosiale interaksie gefasiliteer word (Leedy, Ormrod en Johnson 2019). Ons het die kennis vir hierdie studie tydens die onderhoude by onderwysers verwerf.

Kwalitatiewe navorsers fokus primêr op ’n verskynsel binne sy natuurlike konteks en poog om die onderwerp onder die soeklig beter te verstaan en te interpreteer, in terme van betekenis(se) wat die individu daaraan toevoeg (Leedy e.a. 2019). Kwalitatiewe navorsing word beskrywend weergegee eerder as deur getalle (Maree 2016). Ons het besef dat hierdie onderwerp ’n komplekse fenomeen is, en het daarom gepoog om onder andere die onderwysers se houdings ten opsigte van die gebruik van tegnologie tydens onderrig en leer weer te gee.

5.2 Navorsingsontwerp

Maree (2016) beskryf ’n gevallestudie as ’n diepgaande sistematiese ondersoek na ’n spesifieke geval of ’n stel verwante gebeurtenisse, met die doel om die spesifieke fenomeen te beskryf en/of te verklaar. ’n Gevallestudie is ’n effektiewe manier om kwalitatiewe data in te samel met die doel om deelnemers se beskouings ten opsigte van die hindernisse ondervind tydens leer in konteks te plaas (Maree 2016). Doelgerigte steekproefneming is ’n proses waartydens ’n persoon of persone uit ’n spesifieke bevolking/belangegroep gekies word om aan ’n studie deel te neem met die doel om die spesifieke inligting van ’n bevolking te verteenwoordig (Maree 2016). 

Ons het doelbewus een spesifieke hoërskool vir hierdie gevallestudie geïdentifiseer. Hierdie skool fokus primêr daarop om leerders met leerhindernisse te akkommodeer en het ons in staat gestel om die onderwysers se unieke beskouings en uitdagings in konteks te plaas. 

’n Verduidelikende studie poog om verhoudings tussen veranderlikes te identifiseer en hierdie verhoudings te verduidelik (GradesFixer 2019). Die doel van hierdie navorsing was om die gebruik van tegnologie tydens die onderrig van leerders met leerhindernisse te ondersoek en die onderwysers se sienings ten opsigte van die voordele en struikelblokke te identifiseer en te beskryf. Hierdie navorsingsontwerp is in lyn met die interpretivistiese filosofiese benadering, sosio-konstruktivistiese paradigma en die konseptuele raamwerk.

5.3 Studiebevolking

Studiebevolking kan gedefinieer word as ’n gedeelte van ’n bevolking of groep (Leedy, e.a. 2019). Ons het gebruik gemaak van ’n gerieflike, doelgerigte steekproefneming. Leedy e.a. (2019) noem dat ’n doelgerigte steekproefneming deel is van die nie-waarskynlikheidsteekproefnemingsmetodes. Ons het geen manier gehad om te verseker dat elke element van die bevolking verteenwoordig sal word nie en as gevolg hiervan kan die bevindinge nie veralgemeen word nie (Maree 2016; Leedy e.a. 2019). 

Geriefsteekproefneming verwys na ’n metode waartydens ’n navorser deelnemers selekteer omdat hulle maklik bekombaar is, en die data-insamelingsproses vir die navorser vergemaklik (Leedy e.a. 2019). Daarom is deelnemers geïdentifiseer wat geredelik en gerieflik vir die navorsing beskikbaar was om spesifieke inligting te deel. Tydens kwalitatiewe navorsing word ’n kleiner hoeveelheid deelnemers benodig, en die deelnemers word doelgerig geselekteer om op ’n spesifieke plek deel te neem (Maree 2016).

Ons het gerieflik maar doelgerig een privaat hoërskool in die ooste van Pretoria geïdentifiseer wat daarin spesialiseer om leerders met spesifieke leerhindernisse te akkommodeer. Hierdie skool is ook gekies omdat dit gerieflik naby aan een navorser se huis is. Die skool se onderrig is gefokus rondom leerders met spesifieke leerbehoeftes. Alle leerders word eers ortodidakties deur die skool se sielkundige geassesseer om die leerder se spesifieke leerbehoeftes te bepaal en/of te bevestig. Nadat die assessering se resultate met die ouers bespreek is, word die leerders tot die skool toegelaat. Daar is huidig 156 ingeskrewe leerders met bevestigde leerbehoeftes in die skool. Die skool volg die Nasionale Kurrikulum.

Die skool het tans 15 voltydse vroulike akademiese personeel in diens. Die hoof van die skool het vyf permanent aangestelde onderwysers geïdentifiseer wat vrywillig aan die studie deelgeneem het. Die hoof het slegs permanent aangestelde onderwysers geïdentifiseer omdat hulle oor kennis van die spesifieke skool, sy omgewing en spesifieke uitdagings beskik. Die demografie van die deelnemers word in tabel 1 weergegee.

Tabel 1. Demografie van deelnemers

Deelnemer

Geslag

Ouderdom

Graad

Vak

1

Vroulik

63

8–9

Engels Eerste Addisionele Taal; Kuns en Kultuur

2

Vroulik

28

10–12

Afrikaans Eerste Taal

3

Vroulik

50

8–9

Sosiale Wetenskap; Natuurwetenskap

4

Vroulik

23

8–9

Afrikaans Eerste Taal

5

Vroulik

34

10–12

Geografie

 

5.4 Data-insamelingsmetodes

Data-insamelingsmetodes verwys na die wyse waarop die navorser inligting genereer (Maree 2016). Ons het deur middel van persoonlike, individuele, semi-gestruktureerde onderhoude kwalitatiewe data gegenereer ten opsigte van die individuele onderwysers se sienings van die gebruik van tegnologie.

5.4.1 Individuele semi-gestruktureerde onderhoud

Tydens ’n individuele semi-gestruktureerde onderhoud is die onderhoudvoerder die meetinstrument en die vrae is nie ten volle gestruktureerd nie (Maree 2016). Deelnemers beantwoord ’n stel standaard- vooropgestelde vrae, maar die onderhoudvoerder het die geleentheid om deelnemers aan te moedig om sekere opinies te verduidelik of in konteks te plaas. Dit mag dan na verdere vrae, wat nie deel van die oorspronklike vrae is nie, lei. Hierdie metode was gepas vir die kwalitatiewe studie omdat die vrae diepgaande was en elke deelnemer soveel moontlik tot die data bygedra het (Maree 2016). 

Individuele semi-gestruktureerde onderhoude is tydens die deelnemers se vrye periodes of na skool gevoer. Die deelnemers is vooraf van ’n stel vooropgestelde vrae voorsien en onderhoude het tussen 30 en 45 minute geduur. Die onderhoude is in elke deelnemer se klas gevoer terwyl die onderhoud met behulp van ’n slimfoon opgeneem is.

5.5 Data-ontledingsmetodes en -interpretasie

Die data vir die studie is ontleed deur gebruik te maak van ’n tematiese ontleding om hooftemas te identifiseer. Oop kodering is tydens die tematiese ontledingsproses gebruik. Voorlopige kodes is aan die data toegeskryf, waarna name aan die kodes toegeken is. Die verskeie kodes is ontleed en gekategoriseer volgens die hooftemas wat in die data geïdentifiseer is. Die ontleding is rondom die doelwitte van die studie gebou. 

In kwalitatiewe inhoudsanalise word data in woorde en temas aangebied, wat die interpretasie van die resultate moontlik maak. Die keuse van die ontledingsmetode hang af van hoe diep die navorser probeer om die stellings van die informante oor ’n onderwerp te weerspieël. Dit beïnvloed op sy beurt die aantal informante wat benodig word en die manier waarop data ingesamel moet word (Burnard 1991; Polit en Beck 2006). Die navorser moet kies of die ontleding ’n duidelike analise of ’n latente analise moet wees. In ’n duidelike analise beskryf die navorser wat die informante eintlik sê, bly baie naby aan die teks, gebruik die woorde self en beskryf die sigbare en voor die hand liggende in die teks. In teenstelling hiermee word latente analise uitgebrei tot ’n interpretatiewe vlak waarop die navorser poog om die onderliggende betekenis van die teks te vind (Catanzaro 1988; Downe-Wambolt 1992; Berg 2001).

Inligting soos verkry tydens die onderhoude is getranskribeer en weer geverifieer vir akkuraatheid en volledigheid. Ons het eers die data vir ’n oogopslagindruk deurgelees. Daarna is die data volgens verskillende temas gekategoriseer, voordat dit vasgelê is. Die data is induktief deur middel van kodering verwerk en ’n duidelike analise is gevolg.

 

6. Gehaltebeheer

In kwalitatiewe navorsing word die term geloofwaardigheid eerder as geldigheid gebruik (Maree 2016; Leedy e.a. 2019). Die geloofwaardigheid van kwalitatiewe navorsing word dikwels bevraagteken en gekritiseer aangesien baie mense glo dat daar ’n gebrek is aan strengheid, en dat die bevindings deur die navorser gemanipuleer kan word (Maree 2016). Ons het vier kriteria in ag geneem in die strewe na die betroubaarheid van die navorsing, naamlik egtheidswaarde, betroubaarheid, geloofwaardigheid en oordraagbaarheid (Lincoln en Guba 1985).

6.1 Egtheidswaarde

Tydens navorsing is dit noodsaaklik om te verseker dat data wat ingesamel word die waarheid verteenwoordig (Lincoln en Guba 1985). Ons het verseker dat die waarheid weergegee word deur gebruik te maak van direkte aanhalings vanuit die onderhoude. Ons het ook enige persoonlike of belangekonflikte verklaar.

6.2 Betroubaarheid

Die betroubaarheid van die navorsing verwys na die navorser se vermoë om te verseker dat die bevindings soos gemaak herhaalbaar sal wees onder soortgelyke omstandighede (Maree 2016). Die studie se betroubaarheid is verhoog aangesien die navorsingsmetodologie in besonderhede uiteengesit is in die navorsingsverslag. Die onderhoude is soos volg stapsgewys toegepas (Lincoln en Guba 1985):

  • Die doel van die onderhoud en navorsing is aan die deelnemers verduidelik.
  • Die deelnemers het skriftelik toestemming gegee en ’n deelnemernommer is aan elke deelnemer toegeken om te verseker dat die deelnemers anoniem bly.
  • Alle onderhoude is met vooraf toestemming opgeneem.
  • Die onderhoud is onder die deelnemer se gekose skuilnaam uitgevoer.
  • Dieselfde vrae is aan al die deelnemers gevra.
  • Die onderhoude is onder die deelnemer se toegekende nommer getranskribeer.
  • Ons het die inligting verwerk en geanaliseer. 

6.3 Geloofwaardigheid

Geloofwaardigheid beskryf die mate waarin die resultate van die data-insameling eerder as die navorser se vooroordele weerspieël word (Lincoln en Guba 1985). Die geloofwaardigheid van data word verhoog as ’n vraag konsekwent deur die hele studiebevolking geïnterpreteer word. Hoe meer geloofwaardig ’n studie se data is, hoe minder kans is daar dat foute tydens die insameling en ontleding van die data kan insluip. Die geloofwaardigheid van navorsingsdata verwys na hoe verteenwoordigend die navorsingsvrae meet wat dit veronderstel is om te meet (Leedy e.a. 2019).

6.4 Oordraagbaarheid

Oordraagbaarheid verwys na die proses waardeur bepaal word tot watter mate inligting van die bepaalde studie toegepas of oorgedra kan word na ’n ander omgewing of konteks (Lincoln en Guba 1985). Tydens kwalitatiewe navorsing word gekyk na individue se unieke ervarings en beskouings. Aangesien die inligting tydens ’n semi-gestruktureerde onderhoud persoonlik ingewin word en opgeneem word deur die navorser, is daar min kans dat inligting veralgemeen of gemanipuleer kan word. Inligting wat tydens die onderhoude bekom is, is woordeliks getranskribeer om sodoende te voorkom dat dit gemanipuleer kon word. Dit kan daartoe bydra dat dit moontlik is dat die bevindings en afleidings van hierdie studie binne soortgelyke kontekste oorgedra kan word.

 

7. Etiese oorwegings

Skriftelike goedkeuring is voor die aanvang van die navorsing van die Etiese Komitee van die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria bekom. Die Departement van Basiese Onderwys het ook geskrewe toestemming verleen dat die navorsing in die geselekteerde skool mag plaasvind. Die hoof van die gekose skool het ook skriftelik toestemming verleen dat onderwysers van die skool mag deelneem. Elke deelnemer het ’n inligting-en-toestemmingsdokument ontvang en onderteken waarin daar aan hulle verduidelik is dat deelname aan die studie vrywillig is terwyl anonimiteit verseker is. Geen studieprosedure is uitgevoer voordat deelnemers die toestemmingsvorm onderteken het nie. Deelnemers is toegelaat om te eniger tyd aan die studie te onttrek en is verseker dat indien hulle sou besluit om aan die studie te onttrek, hulle op geen wyse benadeel sou word nie.

Ons het aan elke deelnemer ’n unieke nommer verskaf waaronder die onderhoud gevoer is om hul identiteit te beskerm. Alle inligting is vertroulik hanteer om te verseker dat deelnemers op geen wyse benadeel is nie. Deelnemers is deurgaans waardig behandel. Die onderhoudvoerder het doelbewus daarteen gewaak om die deelnemers met hul antwoorde te lei, te veroordeel of te beoordeel.

 

8. Bevindinge

Die tematiese ontledingsproses wat toegepas is op die data het sleutelkonsepte of hooftemas geïdentifiseer wat regdeur die transkripsies sigbaar was. Die hooftemas wat gevind is tydens die ontledingsproses is gemerk as “Gebruik van tegnologie vir onderwysers”; “Gebruik van tegnologie vir leerders”; “Gebruik van tegnologie en toestelle”; “Algemene houding (teenoor tegnologiegebruik)”. Verskeie subtemas is ingesluit onder “Uitdagings” en “Eksterne faktore”. 

Figuur 2 verskaf ’n grafiese uiteensetting van die temas.

Figuur 2. Grafiese voorstelling van temas en subtemas 

8.1 Gebruik van tegnologie: onderwysers

’n Groot moderne televisieskerm (TV) is in elke klaskamer geïnstalleer. Dit is die belangrikste tegnologiese apparaat wat die onderwysers gedurende hul klasperiodes aanwend. Onderwysers bring hul persoonlike skootrekenaars van die huis af saam en koppel dit aan die TV’s, sodat die leerders ’n vergrote weergawe van die onderwyser se skootrekenaarskerm op die TV kan sien. Leerders wat met hul sig sukkel, vind baie baat by die groot televisiebeeld. Die TV’s word ook gebruik om films oor voorgeskrewe werke (soos boeke) te vertoon. Hierdie onderwysmetode word grotendeels deur die onderwysers verkies en het ’n positiewe invloed op hul onderwyspraktyke. Die onderwysers gebruik ook bandopnemers, waarop gedigte of begripstoetse opgeneem word, as ondersteunende tegnologie in taalklasse. Die band kan maklik gestop word as dit lyk of ’n leerder nie volg nie of om vir ’n leerder te vra om ’n volgende gedeelte te lees. Al die deelnemers gebruik die TV’s en skootrekenaars gereeld en vind dit baie nuttig tydens hul klasse. Die bandopnemers word veral in taalklasse gebruik. Die kuns/Afrikaans-onderwyser gebruik ook nog ’n oorhoofse projektor. 

’n Verdere apparaat wat een van die onderwysers in haar klas het, is ’n visualiseerder. ’n Visualiseerder is ’n staander met ’n gemonteerde kamera wat aan ’n projektor gekoppel is. Die onderwyser kan enige voorwerp of item onder die kamera plaas wat dan lewensgroot op ’n skerm vertoon word.

Laastens gebruik die twee jonger onderwysers soms hul selfone om vinnig iets op Google te soek indien nodig vir die vakinhoud.

Die onderwysers is van mening dat die tegnologiese toestelle as hulpmiddel dien om die aandag van die leerders met leerhindernisse in hul klas te behou. Visuele en ouditiewe stimuli, soos video’s van YouTube en opnames van gedigte, sowel as films, help ook om die leerders se aandag te behou. 

D1: … ek het al agtergekom as ek die kinders prikkel met ’n visuele beeld dan is hul aandag nogal gefokus.

D1: … op die TV-skerm, want ons het lieflike groot TV-skerms in ons klasse so dit maak ’n groot verskil.

D2: Hulle hou eintlik meer daarvan om dit op die rekenaarskerm te sien.

D3: Om toegang tot nice tegnologie te hê veroorsaak dat jou klasaanbieding interessanter is.

Die gebruik van PowerPoint-aanbiedings is ook baie gewild onder al die onderwysers en hulle beskou dit as ’n voordeel.

D1: … as ek dit [tegnologie] gebruik met my PowerPoint dan is dit nie ’n steurnis nie. 

’n Mobiele toepassing, genaamd Kahoot, word deur die deelnemer gebruik wat Afrikaans vir graad 8 en 9 gee. Kahoot is ’n toepassing wat leerders toelaat om ’n voorafopgestelde vasvra te voltooi deur vrae op hul selfone te beantwoord. Die onderwyser het gemeld dat hierdie toepassing baie bruikbaar is in die onderrig en vaslegging van werksinhoud vir die leerders met leerhindernisse. Dit help hulle ook met hersiening na die les.

D4: Dit [Kahoot] help verskriklik baie.1

Die gebruik van tegnologie in die klaskamer word grootliks beïnvloed deur die vak wat aangebied word, sowel as die inhoud van die leerstof. Die gebruik van die visualiseerder is byvoorbeeld baie nuttig vir kaartwerk in geografie.

D5: Die visualizer maak veral my taak tydens kaartwerk aansienlik makliker.

Dit is ook nodig om na leerders se gebruik van tegnologie te kyk. 

8.2 Gebruik van tegnologie: leerders

Leerders met disgrafie gebruik ’n rekenaar om op te tik. Die skool beskik oor ’n rekenaarsentrum wat leerders kan gebruik om take te doen. Die rekenaarsentrum word nie oor die algemeen tydens klastyd gebruik nie. Daar is wel ’n RTT-onderwyser wat die sentrum daagliks gebruik. Die leerders gebruik hul selfone oor die algemeen slegs tydens een klas wanneer hulle die Kahoot-toep gebruik en dit lei tot ’n vinniger en makliker assesserings- en hersieningsproses. Hulle gebruik ook per geleentheid hul eie mobiele data om van die onderwysers te help om iets op hul selfone op te soek. Alhoewel tegnologie ’n groot deel van die leerders se daaglikse lewens is, het nie almal ’n selfoon nie, en daarom voorsien die skool voorgeskrewe handboeke aan elke leerling. Tablette word glad nie aan leerders voorsien nie. Dit blyk uit die onderwysers se antwoorde dat leerders die ontvangers van tegnologie is en dit oor die algemeen nie self gebruik nie.

D5: Die leerders het nie almal ’n selfoon nie, maar dit is nie ’n probleem nie aangesien ons van handboeke gebruik maak.

8.3 Interaksie met tegnologie tussen onderwyser en leerder

Daar is ’n voortgesette verhouding tussen leerders en onderwysers en hoe hulle saam met tegnologie omgaan. Die meeste onderwysers noem dat hul leerders hulle kan help as hulle nie seker is wat fout is met die tegnologie wat hulle in die klas gebruik nie, of as iets nie werk nie. Die leerders word oor die algemeen beskou as meer tegnologies gevorderd en in staat om die onderwysers meer oor tegnologie te leer.

D4: Ek kan nie bybly nie … maar die kinders het my al kom wys. 

Leerders het veral aan die begin, toe die tegnologie in die klasse geïnstalleer is, kom help as onderwysers sukkel, of hulle help met iets spesifieks as ’n onderwyser byvoorbeeld nie weet hoe om ’n dokument in ’n ander formaat te stoor, of om ’n prentjie te verander om klein genoeg te wees om dit in ’n dokument te gebruik nie.

8.4 Houding teenoor tegnologie

Onderwysers het ’n positiewe benadering tot die gebruik van tegnologie in hul klaskamers. Hulle is bereid om voortdurend te leer of om hulp te vra van beide hul kollegas en hul leerders as dit kom by tegnologie.

D4: Ek vra maar dat die kinders my moet wys wat hulle weet dan leer ek by hulle ook.

Die gebruik van tegnologie in die klaskamer word deur die onderwysers as ’n voordeel gesien, en hulle is van mening dat as hulle benadering tot die gebruik van enige vorm van tegnologie ’n positiewe uitwerking het, hulle dit beslis sal gebruik waar hulle kan. 

Die onderwysers glo dat hul begrip van tegnologie en die gebruik daarvan sal toeneem hoe meer gereeld hulle dit gebruik. Al die deelnemers het gevoel dat, omdat hulle tegnologie reeds in hul klaskamers gebruik het, die gebruik daarvan nie meer ’n uitdaging is nie. Gereelde gebruik beteken ook dat die vlak van inspanning om die tegnologie te gebruik baie minder is as wat dit voorheen was. Tegnologie het maklik geword om te gebruik en dit maak die aanbieding van ’n les baie makliker. 

D3: … tegnologie vergemaklik my aanbiedingstaak.

D4: … dit is vir my makliker om net gou-gou ’n Kahoot op te stel en ons doen dit of net gou-gou ’n YouTube-video te kry en te wys … ek meen jy kan vinnig YouTube-video’s kry en ek dink dit is ’n maklike manier om vir hulle iets oor te dra.

Die gebruik van tegnologie in die klaskamer bevoordeel nie net die onderwysers nie, maar die gebruik van PowerPoint-opsommings op die TV-skerm gee leerders die geleentheid om groot volumes werk, wat anders verlore sou raak, in te neem. Dit is vir leerders met leerhindernisse makliker om ’n beeld te sien of na ’n PowerPoint-opsomming van werk te kyk as om self deur aantekeninge te lees, aangesien baie van hulle sukkel om te lees. Hul werkstempo is ook stadig en die gebruik van tegnologie bespaar baie tyd as dit kom by navorsing of die voltooiing van take in die klas.

D1: … dit maak dit net soveel vinniger om klaar te werk.

Die gebruik van tegnologie by die skool is afhanklik van die toegang wat die onderwysers daartoe het. Elke klaskamer het ’n TV en die onderwysers het toegang tot Wi-Fi en die internet soos dit nodig is. Daar is ook ’n rekenaarlokaal wat voortdurende toegang tot tegnologie moontlik maak. As die onderwyser die gebruik van ’n toepassing, soos Kahoot, benodig, word reëlings getref om seker te maak dat elke leerder die toepassing op hul foon kan aflaai om te gebruik.

Twee van die onderwysers het ook aangedui dat hulle nie die tegnologie sou gebruik het as dit baie tyd en moeite geverg het om dit te gebruik nie.

8.5 Uitdagings

Hierdie tema fokus op die uitdagings wat onderwysers in die gesig staar wanneer hulle probeer om tegnologie in hul klaskamers en skoolomgewing te integreer. Die afleiding van aandag, soos deur tegnologie veroorsaak, leerders met leerhindernisse, asook die effek wat dit op die behoud van aandag het, word bespreek. Dit word gevolg deur na die moontlike nadele van die gebruik van tegnologie in die klaskamer te kyk.

8.5.1 Handhaaf aandag

Wanneer tegnologie vir akademiese doeleindes (soos die Kahoot-toepassing) gebruik word, kan leerders se aandag afgelei word deur die feit dat hulle ander dinge op dieselfde toestel kan doen in stede van dit wat betrekking het op leerinhoud. Dit het veral betrekking tot die gebruik van selfone.

D4: … dis moeilik want as ons op die selfone besig is met ’n Kahoot is leerders dikwels besig om ander dinge te doen op hul selfone. Dit ontwrig die klas ...

D1: … dit [selfone] is definitief ’n instrumentjie wat hul aandag baie besig hou. 

D2: Maar ek dink ook dat die kinders … hulle raak bietjie aandagafleibaar as hulle op die fone is. 

Sommige van die onderwysers beweer dat die apparaat wat selfs meer aandagafleidend is, en daarom glad nie gebruik word nie, ’n tablet is. Die rede hiervoor is dat, in die lig van die uitdagings in terme van afleibaarheid wat leerders ervaar in verband met hul leerhindernis, die tablet as teenproduktief beskou word, aangesien die leerders nie fokus as hulle heen en weer op die tablet kan beweeg nie. 

D4: Nee, die tablets gaan hulle nie leer nie as jy kan swipe … dit gaan nie insink nie. Nie hierdie kinders met leerhindernisse nie.

8.5.2 Leerhindernisse

Die leerders van die deelnemende skool is met leerhindernisse gediagnoseer – baie van hulle sukkel om oor langer tye aandag te gee. Hul lees- en skryftempo is stadiger as die gemiddelde leerder s’n en hulle vind dit moeilik om groot hoeveelhede werk neer te skryf en te volg. Hul leerhindernisse is deur die deelnemers geïdentifiseer as ’n uitdaging in die gebruik van selfone in die klaskamer.

D4: ... dit [selfone] kan hul aandag te veel aftrek.

Die uitdaging vir onderwysers is om te besluit hoe tegnologie tydens hul klas gebruik kan word om die leerders te bevoordeel in plaas daarvan om onwelkome afleiding te veroorsaak. Die gebruik van tegnologie in die klaskamer word aangepas om aan die behoeftes van kinders met leerhindernisse te voldoen.

8.5.3 Nadeel in die klaskamer

Die gebruik van tegnologie kan ook ’n nadeel in die klaskamer wees, omdat dit die klastyd kan ontwrig. As gevolg daarvan, raak die klas agter of die uitgesette werk vir die dag word nie voltooi nie. Die uiteinde is ’n verhoogde werkslas vir beide die onderwysers en leerders. Aangesien baie van die leerders aandagafleibaar is, is dit soms moeilik om te verseker dat hul aandag by die gegewe werk is, en dat hulle nie hul aandag aan die ander funksies van die fone soos WhatsApp wy nie.

D4: … ’n steurnis is dat dit hulle aandag sal aftrek en so nou en dan praat hulle op hulle fone.

Die gebruik van tegnologie deur leerders tydens die klas beperk ook die onderwysers om die leerders toe te laat om op hul eie te werk. As die onderwyser individuele werk toelaat, is die kanse tot afleiding groter. Dit beperk die hoeveelheid individuele aandag wat die onderwyser aan elke leerder tydens klastyd kan gee. Die onderwysers het aangedui dat dit baie belangrik is om te verseker dat elke leerling op die huidige werk fokus om seker te maak dat hulle die les volg.

8.5.4 Tyd en moeite met voorbereiding 

Een van die onderwysers noem dat die gebruik van tegnologie in die begin baie tyd in beslag geneem het en dat dit moeite was om lesse voor te berei met die gebruik van tegnologie in gedagte.

D2: Dit hang af hoe lank jy nou al in die spesifieke vak is, soos ek het nou al my goeters opgebou. So, dit is nie meer vir my verskriklik baie moeite om net my laptop oop te maak en dit op die skerm te wys nie. Maar aan die begin het dit baie tyd en moeite geverg.

8.6 Eksterne faktore

Die tematiese ontleding het bevind dat daar drie hoof- eksterne faktore is wat die gebruik van tegnologie beïnvloed. Hierdie faktore is die fokus van hierdie tema. Die faktore is: organisasiestrukture en fasiliteite, ouderdom van onderwysers en leerders en vaardigheidsontwikkeling en vaardighede (verbetering van die opleiding).

8.6.1 Organisasiestrukture en fasiliteite

Die deelnemers is oor die algemeen tevrede met die infrastruktuur en ondersteuningsdienste wat die skool hulle bied. Kragonderbrekings en swak of geen internetverbinding is die twee beperkende faktore vir die gebruik van tegnologie in die klaskamer. As die krag af is, is dit tydrowend om te wag totdat alles weer begin en weer gelaai word. ’n Swak internetverbinding sal ook die gebruik van tegnologie beperk. Ondanks hierdie uitdagings, was die onderwysers tevrede dat die struktuur en fasiliteite van die skool voldoende is om tegnologie te gebruik.

D4: Ja, dis [infrastruktuur en ondersteunende dienste] voldoende ek het niks meer nodig nie.

8.6.2 Ouderdom van onderwysers en leerders

Ouderdom het pertinent en gereeld na vore gekom tydens die tematiese ontleding. Die onderwysers voel dat die leerders deel is van ’n generasie wat met tegnologie grootgeword het, en dit dus beter ken en verstaan as gevolg van hul ouderdom. 

D2: Hulle is beslis meer blootgestel aan alle soorte tegnologie, maar nie noodwendig wat skoolwerk behels nie, maar met ’n toep wat hulle het of daai tipe goed weet hulle definitief meer van. Dit is nie vir my ’n probleem nie, want dan leer ek maar by hulle.

D3: … Baie beslis is hulle my een voor. Hulle is ’n generasie wat tegnologies opgevoed word.

D4: Kinders is elke dag besig met die nuutste en beste tegnologie beskikbaar. Mens kan nie bybly nie.

Alhoewel die meerderheid van die deelnemers van mening is dat daar ’n kennisgaping is tussen hulself en hul leerders as gevolg van hul ouderdom, was daar twee jonger deelnemers wat aandag gevestig het op die feit dat universiteite modules aanbied wat spesifiek fokus op die gebruik van tegnologie in die klaskamer. Hulle het gevoel dat dit ’n voordeel was en iets waaraan die ouer garde nie blootstelling gehad het nie.

Dit was egter duidelik uit die onderhoude dat die twee ouer deelnemers ’n positiewe gesindheid gehad het teenoor die gebruik van tegnologie en tog ook tegnologie aangewend het in hul klasse. Hulle was egter minder geneig om van die nuwer toepassings soos Kahoot gebruik te maak.

8.6.3 Vaardigheidsontwikkeling en vaardigheid (verbetering tydens opleiding)

Vaardigheidsontwikkeling en vaardigheid in tegnologie in die klaskamer was nog nooit ’n prioriteit soos dit nou is nie. Universiteite bied nou modules aan wat fokus op die gebruik van tegnologie in die klaskamer. Dit bemagtig die jonger onderwysers om die werkwêreld te betree met verhoogde vaardighede in tegnologiese gebruik in die klaskamer, en dit maak die integrasie van tegnologie in hul lesse baie makliker. Vir die onderwysers wat opleiding in vaardigheidsontwikkeling benodig, bied die skool rekenaar- en toerustingopleiding. As die onderwyser te eniger tyd onseker is oor hoe om iets te doen of reg te maak, sal sy hulp by leerders, kollegas of familielede vra. Die algemene gevoel van die onderwysers wat na vore kom is dat hoe meer vaardig hulle is in die gebruik van tegnologie, hoe meer sal hulle dit in hul klasse vir onderrig gebruik.

D2: Hoe meer rekenaarvaardig ’n mens is hoe makliker is dit om tegnologie te gebruik.

 

9. Bespreking

Die resultate van die analise het talle temas opgelewer rakende die gebruik van tegnologie tydens die onderrig en leer van leerders met leerhindernisse.

Ten opsigte van die gebruik van tegnologie deur leerders en onderwysers sowel as die apparate wat in die klaskamer by die skool gebruik word, het drie subtemas waardevolle inligting opgelewer. ’n Televisieskerm en persoonlike skootrekenaar is die belangrikste tegnologiese apparaat wat onderwysers in die klaskamer gebruik. Ander toestelle sluit selfone in (wat deur die onderwyser en die leerders gebruik word) en ’n beeldtoestel in die vorm van ’n visualiseerder. Die toestelle word as behulpsaam en as ’n voordelige hulpbron in die klaskamer gesien omdat dit die gebruik van visuele en ouditiewe stimulasie moontlik maak (soos YouTube-video’s en PowerPoint-aanbiedings). Hierdie bevinding word ook sterk in die literatuur bevestig (Ranasinghe en Leisher 2009). As gevolg van die stimulasie is leerders se fokus en aandagspan beter. Die gebruik van die tegnologie is hoofsaaklik afhanklik van die vak van onderrig, sowel as die vakinhoud. Die leerders se gebruik van tegnologie gedurende klastyd is slegs vir akademiese doeleindes (vasvrae doen op Kahoot of inligting soek op Google vir klaswerk). 

Die algemene houding van die onderwysers ten opsigte van die gebruik van tegnologie is positief. Hulle voel dat dit ’n waardevolle toevoeging tot die klaskamer is. Hoe meer gereeld hulle tegnologie gebruik, hoe makliker word dit vir hulle. Gemak is ook ’n ander faktor wat gekoppel is aan hoe die onderwysers tegnologie in hul klaskamer aanvaar. As toegang tot tegnologie en die mate van inspanning om dit te gebruik vir hulle gerieflik is, is hul algemene houding teenoor die gebruik van tegnologie in hul klaskamer baie meer positief as wanneer hulle daarmee sukkel.

Alhoewel die resultate toon dat die gebruik van tegnologie in die klaskamer as positief deur onderwysers beskou word, is daar wel uitdagings wat die gebruik van tegnologie ook in die leeromgewing kan belemmer. Eerstens kan die gebruik van tegnologiese toestelle (veral selfone) in die klaskamer steurend en afleidend wees vir leerders. Hierdie afleiding word versterk as gevolg van die spesifieke leerhindernisse met gepaardgaande aandagafleibaarheid van die leerders en beperk hul aandagspan gedurende die klas. Die gebruik van tegnologie gedurende klastyd kan voordelig wees soos voorheen bespreek, maar dit kan ook die les ontwrig as dit afleiding veroorsaak, wat die hele klas negatief beïnvloed.

Die finale tema van die ontleding fokus op eksterne faktore wat die gebruik van tegnologie in die klaskamer kan beïnvloed. Die resultate toon dat die skool die nodige infrastruktuur en voldoende fasiliteite het om onderwysers toegang te gee tot enige tegnologiese hulpbronne wat hulle vir onderrig benodig. Dit is in teenstelling met Pine-Thomas (2017) se opinie waar onderwysers aangedui het dat hulle nie genoegsame ondersteuning en infrastruktuur het nie, en nie oor die nodige toerusting beskik nie. Kragonderbrekings en swak internetverbindings is geïdentifiseer as twee geringe beperkende faktore vir die gebruik van tegnologie deur die onderwysers. Ouderdom is ’n verdere faktor waar die deelnemers van mening is dat onderwysers weens hul ouderdom nie noodwendig blootgestel was aan en opgelei is rakende tegnologie nie en dat hulle dus nie so vaardig is in tegnologiese gebruik as die leerders nie. Laastens is vaardigheid in die gebruik van tegnologie geïdentifiseer as ’n faktor wat die omvang van die gebruik van tegnologie in die klaskamer beïnvloed. Hoe vaardiger die onderwyser, hoe hoër is die gebruiksvlak.

 

10. Tekortkomings van die ondersoek

Die data vir hierdie studie is beperk aangesien daar slegs vyf deelnemers van een skool betrokke was tydens die data-insameling. Die skool het ook ’n algemene beleid dat selfoongebruik tydens klastyd verbied word, maar die onderwysers mag die reël aanpas na hul behoeftes. Dit kan dus daartoe bydra dat die onderwysers tegnologie tot ’n mindere mate of meer selektief tydens onderrig en leer aanwend. Leerders gebruik oor die algemeen nie die tegnologie nie en is passiewe ontvangers daarvan.

 

11. Aanbevelings

Op grond van die data en resultate van die tematiese ontleding, is die belangrikste uitdaging wat die onderwysers in die gesig staar met betrekking tot die gebruik van tegnologie in die klaskamer, leerders wat deur ander aktiwiteite afgelei word tydens ’n akademiese aktiwiteit. In stede daarvan dat leerders hul persoonlike selfone vir aktiwiteite gebruik, word aanbeveel dat die skool die opsie ondersoek om tegnologiese toestelle te kry wat die nodige toepassings of werk reeds daarop het, en niks anders nie. Deur die toevoeging van “beheerde toestelle” vir gebruik in die klaskamer vir toetsing of onderrig, word die kans dat leerders se aandag deur ander toepassings en/of hul persoonlike inhoud afgelei word, uit die weg geruim.

Verder behoort die tyd wat dit onderwysers neem om werksinhoud en aanbiedings op hul skootrekenaars te laai, ook in ag geneem te word. Die moontlikheid om die voorgeskrewe materiaal in die aanlyn vorm aan die onderwysers te voorsien mag dalk bydra tot tydbesparing. Die voorsiening van materiaal wat klaar in die regte formaat is mag onderwysers dalk verder aanmoedig om tegnologie tydens onderrig en leer in die klaskamer te integreer.

 

12. Samevatting

Hierdie navorsing bied ’n kwalitatiewe perspektief op die gebruik van tegnologie deur onderwysers vir die praktyk met leerhindernisse. Die ontleding het ’n gedetailleerde weergawe van hoe onderwysers tegnologie in hul klaskamers gebruik om leerders met leerhindernisse te onderrig, voorgestel, asook hoe hulle die gebruik van tegnologie beskou om hul leerders te onderrig. Die verskillende tegnologiese toestelle wat onderwysers gebruik, is bespreek, asook die uitdagings wat onderwysers in die gesig staar wat die gebruik van tegnologie in hul klaskamers voorkom of belemmer. Laastens is enige ander eksterne faktore wat in die data gevind is, wat die gebruik van tegnologie deur onderwysers beïnvloed, aangebied.

 

Bibliografie

Adu, E.O. 2016. E-Learning facilities usage assessment by Economic and Management Science (EMS) teachers in Eastern Cape province, South Africa. Paper presented at the EdMedia+ Innovate Learning. 

Alshammari, R., V.V. Reyes, Jr. en M. Parkes. 2016. Faculty attitudes towards the use of mobile devices in EFL Teaching in a Saudi Arabian Setting. Mobile Learning Futures – Sustaining Quality Research and Practice in Mobile Learning, bl. 16–24.

American Psychiatric Association. 2013. Diagnostic and statistical manual of mental disorders: DSM-5. 5de uitgawe. Arlington, VA Washington, D.C.: American Psychiatric Association. 

Bagon, Š., M. Gačnik en A.I. Starčič. 2018. Information Communication Technology use among students in Inclusive Classrooms. International Journal of Emerging Technologies in Learning, 13(6):56–72.

Berg, B.L. 2001. Qualitative Research, message for the Social Sciences. 4de uitgawe. Allin en Bacon: Boston.

Bester, H. 2006. Beter aandagafleibaarheid. ’n Suid-Afrikaanse gids vir ouers, onderwysers en terapeute. Kaapstad: Human en Rousseau.

Botha, N. 2015. Navorsing oor beleide aangaande tegnologie en die toepassing daarvan in vier verskillende laerskole in die Wes-Kaap. http://hdl.handle.net/10019.1/96655 (29 Mei 2020 geraadpleeg).

Bowser, G. en P.R. Reed. 1995. Education TECH Points for assistive technology planning. Journal of Special Education Technology, 12(4):325–38.

Burnard, P. 1991. A method of analyzing interview transcripts in qualitative research. Nurse Education Today, 11:461–6.

Catanzaro, M. 1988. Using qualitative analytical techniques. In Woods en Catanzaro (reds.) 1988. 

Creswell, J.W. 2007. Research design. Qualitative and mixed methods approaches. Londen: Sage.

Cumming, T.M. 2010. Using technology to create motivating social skills lessons. Intervention in School and Clinic, 45(4):242–50. 

Davies, M. en N. Hughes. 2014. Doing a successful research project: Using qualitative or quantitative methods. 2de uitgawe. Houndmills, Basingstoke, Hampshire: Palgrave MacMillan.

Davis, F.D. 1989. Perceived usefulness, perceived ease of use, and user acceptance of information technology. MIS quarterly, 319–50.

Dednam, A. 2011. Learning impairment. In Landsberg, Krüger en Swart (reds.) 2011.

Dell, A., D. Newton en J. Petroff. 2012. Assistive technology in the classroom: Enhancing the school experiences of students with disabilities. 2de uitgawe. Boston, MA: Pearson.

Department of Basic Education. 2014. Action Plan to 2014: Towards the realisation of schooling 2025. https://www.gov.za/sites/default/files/gcis_document/201409/dobeshortened-action-plan-2025031120100.pdf (26 Junie 2020 geraadpleeg).

Department of Education. 1995. White Paper on Education and Training. https://www.education.gov.za/Portals/0/Documents/Legislation/White%20paper/White%20paper%20on%20Education%20and%20Training%201995.pdf?ver=2008-03-05-111656-000 (17 April 2020 geraadpleeg).

—. 1997. Quality education for all: Overcoming the barriers to learning and development. Report of the National Commission on Special Needs in Education and Training (NCESS). Kaapstad: Suid-Afrika. 

—. 2001. White Paper 6: Special Needs Education: Building an inclusive education and training system. https://www.vvob.org/files/publicaties/rsa_education_white_paper_6.pdf (17 April 2020 geraadpleeg).

—. 2004. White Paper on e-Education. Staatskoerant. https://www.education.gov.za/Portals/0/Documents/Legislation/White%20paper/DoE%20White%20Paper%207.pdf?ver=2008-03-05-111708-000 (17 April 2020 geraadpleeg).

Department of Social Development. 2016. White Paper on the rights of persons with disabilities. Staatskoerant. https://www.gov.za/sites/default/files/gcis_document/201603/39792gon230.pdf (17 April 2020 geraadpleeg).

Donald, D., S. Lazarus en P. Lolwana. 2010. Educational psychology in social context: Ecosystem applications in Southern Africa. Kaapstad: Oxford University Press.

Downe-Wambolt, B. 1992. Content analysis: Method, applications and issues. Health Care for Women International, 13:313–21.

Du Plessis, A.H. 2016. ’n Analise van die selfoon-WAT: ’n Grondslag vir die verbetering van selfoonwoordeboeke. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch. 

Du Plessis, P. 2014. Problems and complexities in rural schools: Challenges of education and social development. Mediterranean Journal of Social Sciences, 5(20):1109. 

Florian, L. en J. Hegarty. 2004. ICT and Special Educational Needs: A tool for inclusion. UK: McGraw-Hill Education.

Gaastra, G. F., Y. Groen, L. Tucha en O. Tucha. 2016. The effects of classroom interventions on off-Task and disruptive classroom behavior in children with symptoms of attention-deficit/hyperactivity disorder: A meta-analytic review. PLoS ONE, 11(2):1–19. 

Galloway, H. 2007. ’n Maatskaplike werkintervensieprogram vir die adolessente leerder met spesifieke leerhindernisse. PhD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Geldenhuys, J.L en N.E.J. Wevers. 2013. Ecological aspects influencing the implementation of inclusive education in mainstream primary schools in the Eastern Cape, South Africa. South African Journal of Education, 33:201–18.

GradesFixer. 2019. Research methodology: Exploratory, descriptive and explanatory. https://gradesfixer.com/free-essay-examples/research-methodology-exploratory-descriptive-and-explanatory (8 Oktober 2019 geraadpleeg).

Harrell, S. en Y. Bynum. 2018. Factors affecting technology integration in the classroom. Alabama Journal of Educational Leadership, 5:12–8.

Heugh, K. 2015. Epistemologies in multilingual education: Translanguaging and genre –companions in conversation with policy and practice. Language and Education, 29:280–5.

Heward, W. L. 2010. Exceptional children. Boston: Pearson Allyn Bacon Prentice Hall.

Himmelsbach, V. 2019. Six pros & cons of technology in the classroom in 2019. https://tophat.com/blog/6-pros-cons-technology-classroom (6 April 2019 geraadpleeg). 

Jooste, C. en M. Jooste. 2011. Addressing challenging behaviour in the classroom. In Landsberg, Krüger en Swart (reds.) 2011.

Kikusal, A. 2018. The use of technology in special education. https://elearningindustry.com/use-of-technology-in-special-education (6 Maart 2019 geraadpleeg).

Kokot, S. J. 2006. The nature and incidence of barriers to learning among grade three learners in Tshwane. Africa education review, 3(1–2):134–47.

Kruger, L. 2019. Opvoedkundig-sielkundige assesserings (skolastiese en leerprobleme). https://www.edu-psych.co.za/opvoedkundig-sielkundige-assesserings-skolastiese-en-leerprobleme (13 Oktober 2019 geraadpleeg).

Kruger, N. en H. Adams. 1998. Psychology for teaching and learning: What teachers need to know. Sandton, Suid-Afrika: Heinemann.

Lamichhane, K. 2013. Disability and barriers to education: Evidence from Nepal. Scandinavian Journal of Disability Research, 15(4):311–24.

Landsberg, E., D. Krüger en E. Swart (reds.). 2011. Addressing barriers to learning: A South African perspective. 4de uitgawe. Pretoria: Van Schaik. 

Learning Disabilities Association of America. 2020. http://www.efpa.eu/events/2020-02-17-learning-disabilities-association-of-america-57th-annual-international-conference-2020 (31 Mei 2020 geraadpleeg). 

Leedy, P.D., J.E. Ormrod en L.R. Johnson. 2019. Practical research: Planning and design. 12de uitgawe. NY, NY: Pearson.

Lincoln, Y. en E.G. Guba. 1985. Naturalistic inquiry. Newbury Park, CA: Sage.

Lynch, M. 2017. 7 Must have app and tools for students with learning disabilities. https://www.thetechedvocate.org/7-must-app-andtools-students-learning-disabilities (4 Junie 2020 geraadpleeg).

Maree, K. 2016. First steps in research. Pretoria: Van Schaik.

Marr, B. 2019. 8 Things every school must do to prepare for the 4th Industrial Revolution. https://www.forbes.com/sites/bernardmarr/2019/05/22/8-things-every-school-must-do-to-prepare-for-the-4th-industrial-revolution/#36d66e05670c (30 Mei 2020 geraadpleeg).

Mathopa, M. H. 2007. An Investigation of the management of inclusion in the Free State Primary Schools. MA-verhandeling, Unisa, Pretoria.

Mavhangu F.Z., I. Kibirige, B. Chigonga en M. Ramaboka. 2016. Smartphones in public secondary schools: Views of matric graduates. Perspectives in Education, 34(3):72–85.

Meyer, I.A. en P.R. Gent. 2016. The status of ICT in education in South Africa and the way forward. National Education Collaboration Trust. https://nect.org.za/publications/technical-reports/the-state-of-ict-in-education-in-south-africa (30 Mei 2020 geraadpleeg).

Microsoft. 2018. Make your PC easier to use. https://support.microsoft.com/en-za/help/17180/windows-10-make-your-pc-easier-to-use (26 April 2019 geraadpleeg).

Mumtaz, S. 2000. Factors affecting teachers’ use of information and communications technology: A review of the literature. Journal of information technology for teacher education, 9(3):319–41.

Mutanga O. 2017. Students with disabilities’ experience in South African higher education – a synthesis of literature. South African Journal of Higher Education, 31(1):135–54.

Nel, M. en M.M. Grosser. 2016. An appreciation of learning disabilities in the South African context. Learning Disabilities: A Contemporary Journal, 14(1):79–92.

Nel, N., M. Nel en A. Hugo (reds.) 2012. Learner support in a diverse classroom. A guide for foundation, intermediate and senior phase teachers of language and mathematics. Pretoria: Van Schaik.

—. 2012. Inclusive education: The necessity to provide support to all learners. In Nel, Nel en Hugo (reds.) 2012.

Nel, N.M., L.D.N. Tlale, P. Engelbrecht en M. Nel. 2016. Teachers’ perceptions of education support structures in the implementation of inclusive education in South Africa. KOERS − Bulletin for Christian Scholarship, 81(3):1–14.

Neves, S. 2020. Online education could accentuate inequality in educational outcomes. https://www.bizcommunity.com/Article/196/627/203140.html (27 Junie 2020 geraadpleeg).

NJCLD. 2016. National Joint Committee on Learning Disabilities. http://www.ldonline.org (25 April 2019 geraadpleeg).

Nokwali, M.P., K.J. Mammen en C. Maphosa. 2015. How is technology education implemented in South African schools? Views from technology education learners. International Journal of Educational Sciences, 8(3):563–71.

Office of the President. 1997. Integrated National Disability Strategy. White Paper. https://www.independentliving.org/docs3/sa1997wp.pdf (17 April 2020 geraadpleeg).

Olivier, J. 2018. Die stand van aanlyn oop opvoedkundige hulpbronne in Afrikaans: Afrikaansonderrig as ’n gevallestudie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 58(4–2):905–24.

Pinantoan, A. 2012. Learning difficulties: What can technology do for disabled learners? https://www.opencolleges.edu.au/informed/features/what-can-technology-do-for-disabled-learners/#:~:text=Physical%20Aids%3A%20For%20students%20with,such%20as%20keyguards%20to%20prevent (3 Julie 2020 geraadpleeg).

Pine-Thomas, J.A. 2017. Educator’s technology integration barriers and student technology preparedness as 21st century professionals. PhD-proefskrif, Walden Universiteit, Minneapolis, USA.

Polit, D.E. en C.T. Beck. 2006. Essentials of Nursing Research. 6de uitgawe. Lippincott Williams en Wilkins: Philadelphia.

Portz, J.D., E.A. Bayliss, S. Bull, R.S. Boxer, D.B. Bekelman, K. Gleason en S. Czaja. 2019. Using the Technology Acceptance Model to explore user experience, intent to use, and use behavior of a patient portal among older adults with multiple chronic conditions: Descriptive qualitative study. J Med Internet Res, 8;21(4):e11604.

Ranasinghe, A.I. en D. Leisher. 2009. The benefit of integrating technology into the classroom. International Mathematical Forum, 4(40):1955–61.

Republic of South Africa. 1996. South African Schools Act. Staatskoerant van die Republiek van Suid-Afrika. https://www.gov.za/sites/default/files/gcis_document/201409/act84of1996.pdf (17 April 2020 geraadpleeg).

—. 2019. White Paper on Science, Technology and Innovation. Department of Science and Technology. https://www.dst.gov.za/images/2019/White_paper_web_copyv1.pdf (17 April 2020 geraadpleeg).

Sefotho, M.M. 2018. Philosophy in education and research: African perspectives. 1ste uitgawe. Pretoria: Van Schaik. 

Stauffer, B. 2019. Pros & cons of using Quizlet in your classroom. https://www.aeseducation.com/blog/quizlet-pros-cons (30 Mei 2020 geraadpleeg).

Taylor, R. en M. van der Merwe. 2019. Die integrasie van tegnologie in die Afrikaans Huistaal-klaskamer van skole in die Wes-Kaap: ’n Gevallestudie. LitNet Akademies, 16(2):509–53. 

Tech Advocate. 2017. Reimagining the role of technology in Education. National Education Technology Plan Update: U.S. Department of Education. https://tech.ed.gov/files/2017/01/NETP17.pdf (31 Mei 2020 geraadpleeg).

UNICEF. 2012. Children with disabilities in South Africa. A situation analysis 2001−2011. Pretoria: Department of Social Development/Department of Women, Children and People with Disabilities.

Van Huyssteen, G.B., M. Botha en A. Antonites. 2016. Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) en markbehoeftes in die Afrikaanse gemeenskap. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(2–1):410–37. 

Vaughn, S. en C. Bos. 2009. Strategies for teaching students with learning and behaviour problems. 7de uitgawe. Upper Saddle River, NJ: Pearson.

Woods, N. en M. Catanzaro (reds.) 1988. Nursing Research: Theory and practice. Mosby Incorporated: St Louis.

Yemothy, N.E. 2015. Improving educational technology integration in the classroom. PhD-proefskrif, Walden Universiteit, Minneapolis, USA.

 

Eindnota

1 Kahoot kan afgelaai word by die volgende URL: https://play.google.com/store/apps/details?id=no.mobitroll.kahoot.android&gl=ZA. Inligting is verkrygbaar by https://kahoot.com.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Tegnologiegebruik deur onderwysers vir leerders met leerhindernisse appeared first on LitNet.

Die konteks van die ontstaan en opvoedkundige rol van Caravaggio se Die onthoofding van Sint Johannes die Doper in die 17de eeu

$
0
0

Die konteks van die ontstaan en opvoedkundige rol van Caravaggio se Die onthoofding van Sint Johannes die Doper in die 17de eeu

Jannie Pretorius, Fakulteit Opvoedkunde, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 17(3)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

In hierdie essay ondersoek die skrywer die konteks waarbinne Caravaggio se skildery Die onthoofding van Sint Johannes die Doper ontstaan het en die opvoedkundige rol daarvan in die 17de eeu op die eiland Malta. Caravaggio is deur die Ridders van die Orde van Sint Johannes die Doper opdrag gegee om Die onthoofding as altaarstuk vir die Oratorium van Sint Giovanni Decollato in die Medekatedraal van Sint Johannes in Valletta te skilder. Die Ridders het daar aanbid en jong Ridders is daar opgelei om ’n martelaarsdood vir die Orde en die Christendom te sterf. Die skildery is saam met ’n ander skildery, Die martelaarskap van die Ridders van Malta te Fort Sint Elmo op 23 en 24 Maart 1565, as grafiese opvoedkundige hulpmiddels gebruik om sodanige opleiding vir die Ridders te gee. Die skildery het ook as agtergrond vir kriminele verhore en die ampsontneming van Ridders wat oortredings begaan het, gedien. 

Trefwoorde: Caravaggio; Die martelaarskap; Die onthoofding; opleiding; Ridders

 

Abstract 

The context of the origin and educational role of Caravaggio’s The beheading of St John the Baptist in the 17th century

In January 2020 the writer visited Malta, where the famous Great Siege of Malta took place in 1565. On this island the Knights of the Order of St John obtained a famous victory over the Islamic Ottoman Turks of Suleiman the Magnificent, emperor of Turkey. In the past the writer has conducted some research about Michelangelo Merisi da Caravaggio (Pretorius 2013) and has since always wanted to study his painting The beheading of St John the Baptist on the island. When he attended an academic conference there in January 2020 he finally succeeded in doing this. As part of the research process he assembled a summary of the development and history of the Siege, which was published by LitNet (Pretorius 2020, online). The precise development of the Siege and the outcome thereof fall outside the scope of this article, of which the aim is to investigate the origin, context and educational use of Caravaggio’s The beheading of St John the Baptist

The origin of the Knight of the Order of St John can be traced to a specific moment in European history, namely the rise of the Latin West as a Mediterranean force. Europe, and specifically the territories of France and Spain, had developed the power and methods to resist Arabic expansion in the 6th century (Mercieda 2016:8). After that, it was essential to deploy permanent garrisons in the East, not only to defend the conquered territories, but also to provide protection to the large numbers of pilgrims from Europe that wanted to visit the Holy Land. 

The membership of the Order was sustained by recruiting Knights from the different territories of Western Europe, which led to the development of seven language groups (Langues, which means “tongues”) in the Order (Mercieda 2016:10‒1). These language groups came mostly from young noblemen from England, France, Germany, Spain, Italy and Portugal. It is important to note that the merging of all these diverse and nationalistic language groups into well-functioning fighting units must have posed a huge challenge to the leaders and commanders of the Order.

The Siege lasted for three months and it was ended when the Knights attained a famous victory over the Turks. Of the 8 000 soldiers that fought on the Christian side only about 500 survived. As many as 7 000 of them died in bloody and vicious battles. Many of them were killed by Turkish bullets, but the Turks also used arrows, knives, cannons and fire against the Knights. Quite a number of beheadings were also reported. Graham-Dixon (2010) reports about Turkish soldiers who decapitated Christian captives and mounted their heads on poles as a bizarre signal to the other Christians. These Knights had to defend the Christian faith under the most dangerous conditions imaginable. How were these young Knights trained to prepare them to make the ultimate sacrifice? 

In the decades following the victory of the Knights there was an increase in the number of volunteers from Europe. They were lured to Malta by dreams of equalling the heroic deeds of the heroes of the Great Siege. They were thoroughly trained by their seniors by using, among other teaching aids, the huge painting The beheading of St John the Baptist by Caravaggio. 

The painting (361 cm x 520 cm; Figure 9) was commissioned by Alof de Wignacourt, Grandmaster of the Order in the first decade of the 17th century as an altarpiece for the Co-cathedral of St John because John is the patron saint of the Order. He is also regarded as the first martyr and Knight (Stone 1997:169). Caravaggio portrays this dark act in supreme fashion: The muscled executioner bends over the body of his victim, whose hands are tied behind his back in brutal fashion (Graham-Dixon 2010:377). The executioner has thrown his sword down and has to reach for his knife since the job is not completed.

Why was The beheading required for the Co-cathedral of St John? The novices of the Order of St John listened to sermons in this room (Stone 1997:161; Graham-Dixon 2010:378). It was also the room where the Knights could do private dedications (Stone 1997:161). Apart from this, the bones of the Knights that had sacrificed their lives in the Great Siege were also buried here. In the oratorium the young Knights were trained in the demanding habits of the Knights of Malta and it was drilled into them that they, too, should embrace the idea of a gruesome death in a foreign and distant country. Caravaggio’s altarpiece was designed in such a manner that they could be under no illusion as to what this would entail. A martyr’s death meant everlasting glory with the angels in heaven, but there would be nothing glorious about the death itself. The painting is like a catechism, namely the asking of pertinent and piecing questions: Do you have what is needed to be a Knight of the Order of St John? Are you ready to die? To die in this manner? (Graham-Dixon 2010:378). 

Above The beheading a painting by an unidentified artist, The martyrdom of the Knights of Malta at the Siege of Fort St Elmo on 23rd and 24th June 1565 (270 cm X 590 cm; Figure 8), is displayed. It is a picture of the martyrdom of these Knights during the unsuccessful defence of the Fort (Stone 1997:167). The Madonna, the Child and St John the Baptist rest in the upper part while angels spread palm leaves over the heads of the decapitated Knights that arrive in heaven and the martyrs on the battle field. In contrast with the peaceful upper part of the painting the bottom part of it portrays a wave of death and destruction. There are decapitated and crucified Knights in this part. It contains gruesome, fearful and historically accurate scenes and is aimed at moving even the most obdurate to piety (Stone 1997:167). 

Integrated with these historical references are specific references to Christian martyrdom (Stone 1997:168). At the top left there are three men tied to a tree and shot with arrows – like St Sebastian. On the right another knight is crucified upside down – like St Peter. To the right of this is a headless corpse, with his head alongside him (Figures 8 and 10). One head in particular seems like an imitation (Figures 8 and 11) of St John in The beheading or even to be competing with it (Stone 1997:168).

This painting was seemingly intended to be used in collaboration with The beheading in an effort “to transform the brash, sword-toting youths of Europe’s nobility into a unified corps of God-fearing Christian soldiers” (Stone 1997:168); it was the perfect educational tool for their training. 

The painting’s shocking images were used to inspire shock, faith and heroism in the young knights. The oratorium was built for exactly these sermons, and the two paintings display a memorable, even mnemonic form. One could imagine the young knights reflecting on the two paintings on the altar while being lectured about how their predecessors obtained “crowns of immortality” with their heads (Stone 1997:168).

The impact of the lectures has been doubled because the Oratory is, as mentioned, positioned on top of the original cemetery of victims of the Siege. This cemetery, which still exists in limited form, carries a memorial plate with the names of the Knights that died in the Siege. Because the original entrance to the Oratory was not through the main church, the novices had to march over the bones of the deceased martyrs of 1565 (Stone 1997:168). The didactic, memorial and ceremonial value of The martyrdom functioned in symbiotic partnership with Caravaggio’s The beheading to train the novices in the nature, spiritual environment and circumstances of a cruel, bloodthirsty death.

The beheading was completed in mid-1608. It was a huge success. Alof de Wignacourt was very impressed by it, and he awarded Caravaggio with a golden chain and gave him two slaves. He now was what he had always wished for: an important man on Malta (Graham-Dixon 2010:385).

This situation would not, however, last. Within a few weeks, in August 1608, Caravaggio became involved in a serious attack on a fellow Knight, Giovanni Rodomonte Roero (Graham-Dixon 2010:387). On 28 August 1608 he was thrown into the jail in Fort St Angelo. He escaped in almost superhuman manner, but on 1 December 1608, in his absence, he was defrocked and called “a rotten and deceased limb” – in front of his own painting (Graham-Dixon 2010:391–2). 

Caravaggio was a fugitive once again.

Keywords: The beheading; Caravaggio; Knights; The martyrdom

 

1. Inleiding

In Januarie 2020 het ek Malta, waar die beroemde Groot Beleg van Malta in 1565 plaasgevind het, besoek. Op hierdie eiland het die Ridders van die Orde van Sint Johannes die Doper in daardie jaar ’n roemryke oorwinning oor die Islamitiese Ottomaanse Turke van Suleiman die Manjifieke, heerser van Turkye, behaal. Ek het voorheen navorsing oor Michelangelo Merisi da Caravaggio gedoen (Pretorius 2013) en wou sedertdien nog altyd sy skildery, Die onthoofding van Johannes die Doper, op die eiland gaan besigtig. Toe daar ’n akademiese konferensie plaasvind waar ek ’n voordrag kon lewer, kon ek dit uiteindelik regkry. As deel van die navorsingsproses het ek daarna ’n opsomming van die aanloop tot, en verloop van die Groot Beleg saamgestel, wat deur LitNet gepubliseer is (Pretorius 2020). Die presiese verloop van die Beleg en die uitkoms daarvan val buite die fokus van hierdie artikel, wat ten doel het om die ontstaan, konteks en opvoedkundige gebruik van Caravaggio se Die onthoofding van Sint Johannes die Doper te ondersoek. 

Wat wel noodsaaklik is, is om die agtergrond van die ontstaan en geskiedenis van die Ridders se Orde te skets.

 

2. Die ontstaan en geskiedenis van die Orde van Sint Johannes die Doper

Die oorsprong van die Orde van die Ridders van Sint Johannes is onduidelik en gehul in die onsekerhede van die geskiedenis (Mercieda 2016:8). Twee teorieë bestaan hieroor. Die eerste is dat die Orde ’n Italiaanse oorsprong het. Hiervolgens sou dit verbintenisse met koopmanne van die Italiaanse stad Amalfi gehad het wat in daardie dae aktief in die Levant handel gedryf het. Die tweede teorie het ’n Franse konneksie en verbind die ontstaan van die Orde met die reise van Franse pelgrims na die Heilige Land (Mercieda 2016:8).

Watter een van dié twee teorieë ook al geldig is, bly die feit staan dat die ontstaan van die Ridderorde gekoppel is aan ’n spesifieke oomblik in die Europese geskiedenis, naamlik die opkoms van die Latynse Weste as ’n Mediterreense mag. Europa, en spesifiek die grondgebiede van Frankryk en Spanje, het die mag en metodes ontwikkel om Arabiese uitbreiding in die 6de eeu teen te staan (Mercieda 2016:8). Die Kruistogte wat gevolg het, het ten doel gehad het om Moslems uit die Heilige Land te verdryf. Daarna was dit noodsaaklik om permanente garnisoene in die Ooste te vestig, nie net ter verdediging van die verowerde gebiede nie, maar ook om skuiling en beskerming te bied aan die groot getalle pelgrims uit Europa wat die Heilige Land wou besoek. 

In 1113 het die Orde van Sint Johannes ’n goedgekeurde Orde van die Rooms-Katolieke Kerk geword (Mercieda 2016:9). Van daardie oomblik af was die Orde dus onder die direkte beheer en beskerming van die pous. Aanvanklik was die fokus van die Orde hoofsaaklik die versorging van siekes en die voorsiening van skuiling aan pelgrims in die Heilige Land (Mercieda 2016:9, 13). Stygende spanning in die Ooste, onenigheid onder Christene en oorloë teen die Islam het die fisiese verdediging van die Christelike geloof egter toenemend genoodsaak. Laasgenoemde het dus al hoe meer die primêre doel van die Orde geword. 

Die ledetal van die Orde is gevoed deur die werwing van ridders in verskillende dele van Wes-Europa, wat tot die vorming van sewe taalgroepe (Langues, wat “tonge” of “tale” beteken) in die Orde gelei het (Mercieda 2016:10‒1). Hierdie taalgroepe was meestal uit Engeland, Frankryk, Duitsland, Spanje, Italië en Portugal afkomstig. Dit is belangrik om hier te noem dat die samesnoering van al hierdie diverse en nasionalistiese taalgroepe in hegte gevegseenhede ‒ wat die Christelike geloof onder die gevaarlikste denkbare omstandighede moes verdedig ‒ sekerlik ’n baie groot uitdaging vir hulle aanvoerders en leiers moes gewees het.

Die verlies van die Heilige Land aan die begin van die 14de eeu aan die Turke het die Orde in ’n ernstige krisis gedompel (Mercieda 2016:13). Die rede vir hulle bestaan, naamlik die beskerming en versorging van pelgrims na die Heilige Land, is onder hulle voete uitgeruk. Na ’n kort verblyf op Kreta en Siprus is hulle teen 1306 op die eiland Rhodes gevestig (Mercieda 2016:13).

Op Rhodes kon hulle hul weer toespits op die versorging van siekes, maar hier het hulle ook in uitstekende seevaarders ontwikkel (Mercieda 2016:17). So bedrewe was hulle hierin dat hulle deur Christelike magte in die Ooste, spesifiek die Koninkryk van Siprus, genooi is om strooptogte op Egipte uit te voer. Hierdie en ander aanvalle het natuurlik tot verskeie teenaanvalle van sowel Egiptiese as Turkse magte gelei, wat oor die verloop van 200 jaar weerstaan is (Mercieda 2016:17‒8). Tydens die Beleg van Rhodes in 1522 het die Turke van Suleiman die Manjifieke die Orde egter uiteindelik van Rhodes verdryf. Op 1 Januarie 1523 het hulle die eiland verlaat, weer eens sonder ’n heenkome. Hulle sou vir maande op hul skepe bly en van een Europese hof na die ander swerf (Mercieda 2016:21).

In 1523 versoek die Ridders die Heilige Romeinse Keiser Karel V om Malta en Tripoli aan hulle toe te wys. Die eiland was hoegenaamd nie in dieselfde liga as Rhodes nie, want die infrastruktuur was swak ontwikkel en daar was ’n tekort aan water. Dit sou die Ridders egter in staat stel om hul oorloë en strooptogte teen die Moslems voort te sit, want Malta het goeie hawens gehad en was strategies baie goed geleë om Christelike Europa teen Turkse aanvalle te beskerm (Mercieda 2016:23). 

Toe die Ridders op die eiland land, het hulle dadelik begin om die verdediging en versterking van die eiland op te knap (Mercieda 2016:25). Die teistering van Turkse handelsvlote kon voortgesit word en die Turke is gevoelige slae toegedien. Die tafel was gedek vir die Groot Beleg van Malta in 1565.

Behalwe dat die Ridders die Turke skade aangedoen het, was Malta inderdaad die ideale vastrapplek vir Turkse aanvalle op Christelike Europa. Toe die Turkse vloot dus in Mei 1565 met ongeveer 40 000 man en 200 skepe op Malta land, was die eerste doelwit die verowering van die eiland. Dit sou die Turke egter ook in staat stel om aanvalle op Sisilië en Italië en, uiteindelik, die res van Europa te loods.

Pretorius (2020) bevat, soos gemeld, ’n beskrywing van die Beleg. Vir die doeleindes van hierdie essay is dit voldoende om te meld dat die Beleg drie maande geduur het en dat dit op ’n roemryke oorwinning vir die Ridders uitgeloop het. Van die 8 000 soldate wat aan Christelike kant geveg het, het egter net sowat 500 oorgebly. Meer as 7 000 man het gedurende die bloedige en wreedaardige gevegte gesterf. Baie van hulle is deur Turkse koeëls gedood, maar die Turke het ook pyle, lanse, kanonne en vuur teen die Christene ingespan. Verskeie gevalle van onthoofding is ook aangeteken. 

Wanneer die Ridders se bereidheid om op heldhaftige wyse so wreedaardig te sterf van naderby beskou word, ontstaan ’n interessante vraag: Hoe is hulle opgelei, gemotiveer en voorberei om so wreed te sterf?

 

3. Om onthoof te word

Kan daar ’n meer grusame of wrede manier wees om te sterf as onthoofding (Figuur 1)?

Figuur 1. Die agtergrond en omstandighede van hierdie onthoofdings is onbekend. (Pinterest, aanlyn)

Die antwoord op hierdie vraag is waarskynlik “ja, by wyse van marteling”. Allen (2015:112) rapporteer byvoorbeeld dat die bene en interne organe van ’n Ridder genaamd La Rivière oor ’n tydperk van ’n paar uur aan stukke geslaan is deur sy Turkse martelaar. Hierdie wreedheid het nie slegs aan Turkse kant voorgekom nie. Balbi (1568:104), ’n Spanjaard wat as skut aan die Beleg deelgeneem, dagboek daarvan gehou en dit oorleef het, rapporteer op 3 Julie 1565 dat ’n Griek probeer het om van die Christene na die Turke oor te loop: “Maar dit was God se wil dat een van ons wagte op die mure hom sien net toe hy uitglip en die perderuiters is gestuur om hom te vang.” Volgens Allen (2015:173) was dit ’n klein seuntjie wat hom gesien en “Turk, Turk” geskree het. Hulle het hom teruggebring en hy het bely wat hy wou doen. Hy het vir sy verraad betaal deurdat hy in vier stukke gekap is. ’n Ander verraaier is deur die Christene aan ’n perd se stert vasgemaak en met klippe doodgegooi (Allen 2015:146).

My belangstelling in of selfs beheptheid met onthoofding is aanvanklik deur Graham-Dixon (2010) se omvattende biografie van Caravaggio geprikkel. Hy skryf die oorsprong van Caravaggio se skildery Die onthoofding van Sint Johannes die Doper onder andere toe aan die Beleg van Malta in 1565. Na die inname van een van die drie forte op Malta, naamlik Fort Sint Elmo, het die Turke al hul Christelike gevangenes se koppe en hande afgekap nadat hulle soos beeste oopgevlek en hulle harte, wat steeds geklop het, uitgeruk is (Allen 2015:162). Hulle koppe is daarna bo-op pale geplaas en vir die Christene vertoon. Vier van die onthoofde lyke is verder, nadat kruise op hulle borskaste uitgekerf is, op stukke hout gekruisig, aan mekaar vasgemaak om ’n vlot te vorm en met die seestrome na die Christene gestuur om hulle die skrik op die lyf te jaag. Die plan het egter skynbaar geboemerang: Jean de la Valette, aanvoerder of Grootmeester van die Ridders, was geensins geïntimideer nie en het dadelik al sý Turkse gevangenes laat onthoof en dié koppe na bewering met kanonne na die Turke teruggeskiet (Stone 1997:168; Graham-Dixon 2010:360–1). Allen (2015:165) betwyfel dit of die koppe inderdaad teruggeskiet is en beweer dat hulle bloot oor die muur van die Ridders se fort gegooi is.

Die bevolking van Malta is nie onthoofdings gespaar nie. Op 28 Junie 1565 berig Balbi (1568:96) dat ’n sestigtal Maltese mans en vrouens uit hulle dorpie gevlug en in ’n grot gaan skuil het. Onder hulle was ’n pragtige Maltese meisie. Toe die groep deur die Turke ontdek word, het hul aanvoerder die meisie by haar ouers gekoop – sekerlik onder dwang. Die Christene het hiervan gehoor en ’n geveg met die Turke aangeknoop. Toe die Turke sien dat hulle die geveg aan’t verloor is, het die aanvoerder haar met een haal van sy swaard onthoof voordat hy deur die Christene doodgemaak is.

Allen (2015:156) het ’n moontlike verklaring vir my belangstelling in onthoofding. Hy verduidelik dat mans wat vasgevang is in situasies wat vir seker tot die dood kan lei, ’n vreemde tipe afguns by buitestanders kan ontlok. Daar is dus ’n sekere emosionele aantrekkingskrag (Allen 2015:144). Hierdie verklaring klink sinvol: Wil baie Christene nie heimlik graag ’n heldedood vir hulle geloof sterf nie en bewonder hulle nie die dapperheid van die ou martelare nie? Die volgende dien ter illustrasie. Teen die einde van die weerstand in die swaarbeleërde en gedoemde Fort Sint Elmo, toe ridders, soldate en inwoners van Birgu ‒ waar die Ridders se hoofverdedigingsmag gesetel was ‒ hoor van die oorblywende swaargewonde verdedigers met hulle stukkende wapens, het ’n groot aantal van hulle vrywilliglik aangebied om die gewondes te gaan bystaan. Hulle was gretig om sodoende noodwendig ook ’n gewisse, wrede dood tegemoet te gaan.

Daar is talle ander voorbeelde onder die Ridders van hierdie onvoorwaardelike bereidheid om in Fort Sint Elmo te gaan veg en te sterf. Een voorbeeld is voldoende om die punt te illustreer. Toe Jean de la Valette op 4 Junie 1565 vir die hoogs gerespekteerde en dapper kaptein Miranda vra om die bevel van die gedoemde Fort oor te neem, wou hy nie, want hy het dit as ’n hopelose saak beskou. Hy was wel bereid om as gewone soldaat oor te gaan:

Desnieteenstaande, my Heer, wens ek om vir jou te kan bewys dat ek begeer om die Orde te dien – want deur dit te doen, sal ek my God en my Koning dien. Laat my na Sint Elmo as gewone soldaat gaan om saam met daardie onverskrokke manne te gaan veg. Ek sal in hulle geselskap tot voordeel van ons almal werk, en saam met hulle sterf (Balbi 1568:68; vertaling deur skrywer).

La Valette het hom toegelaat om te gaan en op 23 Junie 1565 sterf hy inderdaad ’n heroïese dood. Tydens die finale Turkse aanslag was hulle verstom om Miranda, swaar verwond (deur koeëls, pyle en kunsmatige vuur) en nie in staat om regop te staan nie, vasgegespe in ’n stoel te vind (Allen 2015:156–9). Hy was vermink, maar in sy hande was ’n lans en hy kon steeds ’n handjievol Turkse soldate neervel en dood. ’n Skoot uit ’n Turkse geweer het sy lewe finaal beëindig.

 

4. Voorbereiding van Ridders om ’n wrede dood tegemoet te gaan en die rol van Caravaggio se Die onthoofding van Sint Johannes die Doper daarin

Balbi (1568:147) voel genoop om van die dapperheid van die jong Ridders van die Orde tydens die Beleg melding te maak. Hulle het in die gevaarlikste posisies geveg en geredelik die plek van gevalle krygers volgestaan om net soveel dapperheid soos die veterane te vertoon. Hoe, wil mens weer vra, het die Orde dit reggekry om hierdie jong Ridders vir die wreedheid van ’n veldslag teen die Turke – en moontlike onthoofding ‒ voor te berei? 

In die dekades wat op die oorwinning van die Ridders gevolg het, was daar ’n toename in die aantal nuwe rekrute van die Orde van Sint Johannes (Graham-Dixon 2010:361). Hulle is na Malta gelok deur drome om die heldedade van die helde van 1565 te ewenaar. Net ses jaar na die Beleg van Malta het ’n ander beroemde oorwinning van die Christene oor die Islamiete – tydens die Slag van Lepanto – die vuur van entoesiasme verder aangeblaas. Honderde jong edelmanne van die vooraanstaande families van Europa het na Malta gereis om ridderskap, eer en glorie te verwerf. Hulle wou veg en, indien nodig, die dood van ’n martelaar in die gevegte teen die magte van Islam sterf (Graham-Dixon 2010:361; Schütze 2017:268).

Caravaggio het ook gedroom om ’n Ridder van die Orde van Sint Johannes te word, maar sy motiewe was dalk nie so suiwer nie. Omdat hy tydens ’n onwettige tweegeveg in Rome ’n moord gepleeg het en ter dood veroordeel is, was daar ’n prys op sy kop (Graham-Dixon 2010:361; bladsyverwysings hierna almal uit hierdie bron, tensy of totdat anders vermeld). Die Ridders van Sint Johannes was volgens die destydse bedeling onder die pous egter verhewe bo die wette van Rome en onderhewig aan hulle eie, unieke wetlike kode. Caravaggio sou dus veilig wees in Malta. Indien hy ’n ridderskap kon verwerf, sou hy de facto-kwytskelding vir sy misdaad verwerf. Dit sou ook aan hom verhoogde status verleen – iets waarna hy gesmag het (361‒2). Na intensiewe onderhandelinge met die Ridders (362‒5) land hy op 12 Julie 1607 in die hawe van Valletta (365).

Valletta, vernoem na grootmeester Jean de la Valette, was toe slegs 40 jaar oud. ’n Menigte slawe het die stad uit die eiland se beroemde heuningbruin kalksteen gebou (366). Caravaggio is deur simbole van die eiland se streng en glorieryke verlede omring. By die ingang van Grand Harbour was byvoorbeeld ’n galg. Aan die linkerkant van die hawe was Fort Sint Angelo – waar baie van die beroemdste gebeure van die beleg plaasgevind het. Op daardie stadium is misdadige Ridders ook daar aangehou – soos wat Caravaggio later tot sy spyt sou moes uitvind.

Nog ’n heilige terrein was die herboude Fort Sint Elmo, waar soveel van die Ridders van die Orde hulle lewens in 1565 verloor het. Op sommige van die rotse was steeds bloedvlekke sigbaar – die tekens van die glorieryke bloed wat deur Christen-martelare gestort is en waarop die Maltese steeds trots was (266‒7). Die Grootmeester van die Orde in dié tyd was Alof de Wignacourt (Figuur 2 – prente van aanlyn ensiklopedieë word benut omdat hulle van die beste beskikbare kwaliteit is), wat streng oor wet en orde gewaak het (368). Hy was slegs aan die pous verantwoordbaar vir sy besluite.

Die strawwe wat uitgedeel is, dien as aanduiding van die uitdaging wat dit was om die honderde jong Ridders te beheer (369). So was die straf vir onbehoorlike drag die sogenaamde “kwarantyn” – dat die skuldige vir 40 dae in sy herberg moes bly en vas. Hy moes ook gereeld aanmeld vir ’n openbare pak slae in die kerk (369). Meer ernstige misdade is gestraf deur die gevreesde ampsontneming: die permanente ontneming van die Ridder se drag. As ’n Ridder iemand sou doodmaak, is hy tot ’n tradisionele Maltese dood gevonnis: Hy is eers in die Kerk van Sint Johannes verneder en dan vasgebind en in die nag in die see gegooi (370). 

Nou word daar kortliks verwys na drie van Caravaggio se skilderye op Malta, omdat die suksesvolle afhandeling daarvan betekenisvol was vir die ontstaan van Die onthoofding van Johannes die Doper. Daarna word die geskiedenis en gebruik van Die onthoofding bespreek.

Sy eerste skildery op Malta, naamlik Sint Hieronymus wat skryf, hang tans in die Oratorium van S. Giovanni Decollato in die Medekatedraal van Sint Johannes (Figuur 3).

Figuur 2. Alof de Wignacourt en sy hofknaap. Caravaggio, Louvre (Wikidata, aanlyn)

Figuur 3. Sint Hieronymus wat skryf. Caravaggio, Oratorium van S. Giovanni Decollato in die Medekatedraal van Sint Johannes (Wikimedia, aanlyn)

In die herfs of winter van 1607 word Caravaggio gevra om ’n portret van een van die senior en mees uitnemende Ridders van Malta, Fra Antonio Martelli (Figuur 4), te skilder (372). Volgens Graham-Dixon (372) is dit een van die mees indrukwekkende portrette van die 17de eeu. Dit beeld ’n hardvogtige en kragtige man uit wat in die verte staar, asof hy na binne reflekteer en sy herinneringe aan ou gevegte orden.

Figuur 4. Fra Antonio Martelli. Caravaggio, Pittu Paleis in Florence (Wikipedia, aanlyn)

Die sukses van hierdie skildery het daartoe gelei dat Caravaggio in November of Desember van 1607 die grootmeester, Alof de Wignacourt (Figuur 2), geskilder het (373). Dis ’n meer outydse, rigiede en konserwatiewe werk as Martelli se portret, wat dalk ’n weerspieëling mag wees van Wignacourt se diepgesetelde gevoel van sy eie belangrikheid (Schütze 2017:264). Hy dra die pragtige pak van ’n 16de-eeuse harnas – asof hy die glorieryke heldhaftigheid van die Groot Beleg wil beklemtoon (Graham-Dixon 2010:373). Hy het inderdaad aan die Beleg deelgeneem en dit oorleef (Wignacourt-museum). 

Wignacourt was in vervoering oor die portret en volgens alle aanduidings is die kruis van die Orde van Sint Johannes daarvoor aan Caravaggio toegeken (Graham-Dixon 2010:374). Sy droom het waar geword – hy was nou ’n man van betekenis (385). Daar was egter twee voorwaardes (375). Hy moes eers, soos alle nuwe Ridders, ’n volle jaar op Malta deurbring voor hy die eer amptelik kon ontvang. Hy sou ook ’n heffing, of sogenaamde passagio, moes betaal. Hy het geen geld gehad nie, maar Wignacourt het ’n oplossing daarvoor gehad. Die Oratorium van Sint Johannes, ook bekend as die Oratorium van die Nuwelinge (387–8), teenaan die Medekatedraal van Sint Johannes in Valetta, was toe so pas voltooi. Dit was een van die belangrikste geboue in Malta se nuwe hoofstad, maar het nog nie ’n altaarstuk gehad nie. As Caravaggio een sou voorsien, sou dit as passagio aanvaar word (Schütze 2017:265). 

Die verhaal van die onthoofding van Johannes die Doper word in Matteus 14:3‒12 en Markus 6:17‒28 vertel. Koning Herodes het Johannes in die tronk gegooi omdat hy kritiek uitgespreek het teen die buite-egtelike troue van Herodes met Herodias, die vrou van sy broer Filippus. Herodias het daarna ’n wrok teen Johannes gekoester en wou hom laat doodmaak, maar sy kon nie, want “Herodes was bang vir Johannes omdat hy besef het dat hy ’n opregte en godvresende man is”. Herodias se kans het gekom toe haar dogter op Herodes se verjaarsdag vir hom gedans het. Hy was só in sy skik daarmee dat hy haar belowe het om haar enigiets te gee wat sy vra – al sou dit die helfte van sy koninkryk wees. Na oorlegpleging met haar ma het sy vir die kop van Johannes die Doper op ’n skinkbord gevra. Herodes was verslae, maar hy kon die versoek nie weier nie en het gevolglik een van sy lyfwagte gestuur om Johannes te gaan onthoof.

N.P. Van Wyk Louw het sy eie, interessante interpretasie van die gebeure in sy vers, “Salome dans” (Louw 2002:184):

Johannes hoor hoe kom die wag
’n eensaam vrou ken haar gesag;
Herodus, dronk, die sien alleen
’n doekie voor ’n jong geslag. 

Wignacourt het vir ’n portret van hierdie onthoofding van Johannes gevra (Figuur 9), omdat Johannes die beskermheilige van die Orde van Sint Johannes is en dus deur die Orde as die eerste Ridder en martelaar beskou is (Stone 1997:169). Caravaggio beeld hierdie donker toneel op meesterlike wyse uit: Die gespierde laksman leun oor die liggaam van die slagoffer, wie se hande op wrede wyse agter sy rug vasgemaak is (Graham-Dixon 2010:377). Die laksman het sy swaard neergegooi en tas na ’n dolk in sy gordel, want die werk was nog nie klaar nie. Hoewel die bloedvate afgesny is en die bloed uit die wond spuit, is die kop, skokkend genoeg, nog met senings en vel aan die liggaam vas. Dié moet nog losgesny word voordat die kop in die skinkbord geplaas kan word. Die martelaar lê op ’n stuk skaapvel, wat hom simbolies ’n geseënde Christelike lam wat geoffer word, maak (Stone 1997:169, Graham-Dixon 2010:378). Jesus verwys hierna by die instelling van die Nagmaal in Matteus 26:27b‒8: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes.” Caravaggio plaas ’n Turkse tronkbewaarder langs die laksman – waardeur die verhaal van Johannes na die realiteit van die Ridders deurgetrek word (Graham-Dixon 2010:378‒9).

Die agtergrond wat Caravaggio skilder, verdien verdere aandag. Graham-Dixon (2010:377) meld bloot dat die toneel afspeel in die somber binnehof van ’n onderdrukkende, streng tronk naas ’n groot poort gebou met massiewe klippe en ’n venster met diefwering waardeur twee gevangenes pateties saambondel in ’n poging om die onthoofding te sien. Schütze (2017:265) meen dit verwys na die binneplein van die Paleis del Gran Maestro in Valletta. 

Stone (1997:164‒6) bied egter ’n ander interpretasie aan. Volgens hom is daar ’n duidelike verband tussen die agtergrond van Die onthoofding en ’n plaat deur Philippe Thomassin, De prohibitionibus et poenis (Figuur 5) wat in die Statuta Hospitalis Hierusalem pryk, waarin die statute van die Orde voorkom.

Alle Ridders sou dus onmiddellik Caravaggio se bron herken het (Stone 1997:165). Aan die regterkant, uitgebeeld as “twee torings” van deugsaamheid, staan twee trotse Ridders met formele klede. Aan die teenoorgestelde kant van die plaat is hulle dwalende teenhangers. Hulle dra steeds die Kruis, maar staar swaarmoedig deur die tronkvensters. Hulle desperaatheid is te verstane, sê Stone (1997:165‒6): Op ’n boot, in die middel van die agtergrond, ontvang een van hulle selmaats die algemene straf vir moord (soos voorheen gemeld). Hy word naamlik vasgebind en in die see gegooi (Stone 1997:166; Graham-Dixon 2010:370).

Figuur 5. De prohibitionibus et poenis, illustrasie van Statuut XVIII, deur Philippe Thomassin (Stone, 1997:165)

Met watter doel is Die onthoofding uiteindelik spesifiek in die Oratorium van die Medekatedraal van Sint Johannes opgehang? Die nuwelinge van die Orde van Sint Johannes het na preke geluister en opleiding in die Oratorium ontvang (Stone 1997:161; Graham-Dixon 2010:378). Dit was ook die lokaal waarin Ridders private toewydings kon doen (Stone 1997:161). Deurdat die beendere van die Ridders wat tydens die Groot Beleg gesterf het onder die plaveistene van die vloer begrawe is, was dié plek dus ’n skool vir die martelare van die toekoms, asook ’n begraafplaas vir die martelare van die verlede (Graham-Dixon 2010:378). Binne die Oratorium is die nuwelinge in die veeleisende gewoontes van die Ridders van Malta opgelei en dit is by hulle ingedril dat ook húlle moontlik die dood in ’n verre land aan die hand van ongelowiges sou moes tegemoet gaan. Caravaggio se altaarstuk is só ontwerp dat dit sou verseker dat hulle onder geen wanindruk kon verkeer oor wat dít beteken nie. ’n Martelaar se dood het die beloning van ewige glorie met die engele in die hemel beteken, maar daar sou niks glorieryks omtrent die aard van die dood self wees nie. Dit sou soortgelyk aan die volgende wees: ’n morsige daad deur ’n slagter in ’n donker en eensame plek. Die prent is soos ’n kategismus, naamlik die vra van vrae: Is jy seker dit sit in jou om ’n Ridder van die Orde van Sint Johannes te wees? Is jy gereed om te sterf? Om op dié manier te sterf? (Graham-Dixon 2010:378). 

In die eerste helfte van die 17de eeu het die Oratorium (Figuur 6) egter anders daar uitgesien as vandag (Stone 1997:161).

Figuur 6. Die Oratorium van S. Giovanni Decollato in die Medekatedraal van Sint Johannes, Valletta (Foto deur skrywer)

Hedendaags, na ’n herversiering, het dit ’n barokvoorkoms, met vergulde hout en muur- en olieverfskilderye. In die area bokant Die onthoofding is ’n vergulde halfmaanvormige houtlunet (Figuur 6) met ’n ovaalvormige tondo van die Madonna dei sette dolori (Stone 1997:162). Hierdie herversiering van die Oratorium het tussen 1680 en 1695 plaasgevind (Stone 1997:161).

Navorsing het getoon dat die oorspronklike Oratorium (Figuur 7) ’n spartaanse, reghoekige vertrek met ’n plat plafon was (Stone 1997:164; Graham-Dixon 2010, plaat 77; Schütze 2017:271). Die gravering van Wolfgang Kilian, die enigste uitbeelding van die Oratorium soos dit in die eerste helfte van die 17de eeu daar uitgesien het, toon duidelik Die onthoofding tussen twee pilare en ’n nederige altaar daarvoor (Stone 1997:164).

Daar is reeds na die ooreenkoms tussen Thomassin se De prohibitionibus et poenis (Figuur 5) en die agtergrond van Die onthoofding verwys. Kilian se prent vestig weer eens die aandag daarop dat Die onthoofding dikwels die onheilspellende agtergrond vir kriminele verhore gevorm het. Soos in die gravering gesien kan word, is die beskuldigde net voor Johannes se laksman geplaas (Stone 1997:164). Die jong Ridders moes weet wat met hulle sal gebeur as hulle moord sou pleeg.

Die gravering belig nie net dié belangrike funksie van Die onthoofding wat dikwels misgekyk word nie, dit onthul ook ’n totaal onverwagte kenmerk van die Oratorium gedurende die tyd voor 1680 (Stone 1997:166). Aan die bokant van Die onthoofding is ’n halfmaanvormige skildery (Figure 7 en 8).

Tans hang die skildery in die eetsaal van die monnikeklooster van die Franciskaanse kloosterlinge in Rabat, Malta (Stone 1997:167). Hierdie skildery is ’n primêre dokument (Stone 1997:167) ten einde ’n begrip te vorm van die denkwyse van sy beskermhere in die tydperk na die Beleg, tydens die bou en aanvanklike versiering van die kerk en die Oratorium (Stone 1997:167).

Figuur 7. Die kriminele tribunaal van die Ridders van Malta in die Oratorium van S. Giovanni Decollato in die Medekatedraal van Sint Johannes, Valletta. Wolfgang Kilian, gravering, 12,7 cm x 7,5 cm. Katolieke Universiteit van Amerika, Washington (Graham-Dixon, plaat 79; Schütze 2017:271; Stone 1997:164; Writingcities)

Figuur 8. Die martelaarskap van die Ridders van Malta te Fort Sint Elmo op 23 en 24 Maart 1565. Onbekende kunstenaar, 275 cm x 590 cm. Eetsaal, monnikeklooster van die Franciskaanse kloosterlinge, Rabat (Stone 1997:166) (Foto met toestemming van die klooster)

Figuur 9. Die onthoofding van Sint Johannes die Doper. Caravaggio. 361 cm x 520 cm. Medekatedraal van Sint Johannes, Valletta (Stone 1997:163 Wikimedia Commons)

Die skildery in Figuur 8 is die werk van ’n ongeïdentifiseerde kunstenaar en is ’n uitbeelding van die martelaarskap van die lede van die Orde tydens die oorname van Fort Sint Elmo gedurende die hoogtepunt van die Beleg (Stone 1997:167). Die Madonna, die Kind en Sint Johannes die Doper rus in die boonste gedeelte op die wolke terwyl engele palmtakke oor sowel die koppe van die onthoofde ridders wat daar aankom as op die martelaarridders op die slagveld sprinkel. Johannes hou die banier van die Orde vas en tree namens sy beskermlinge in by Maria (Stone 1997:167). Figure 8 en 9 word doelbewus na mekaar geplaas sodat dit ’n indruk kan skep van die toneel wat die Ridders in daardie jare in die Oratorium sou waargeneem het en waarmee hulle as’t ware gekonfronteer is.

In teenstelling met die kalmte wat uit die boonste area van Figuur 8 straal, verbeeld die onderste gedeelte ’n vloedgolf van dood en verwoesting. Die benadering is hagiografies en naturalisties om die 120 ridders wat in die slagting gesterf het, te gedenk en bevat skrikwekkende, histories akkurate tonele wat daarop gemik is om selfs die hardvogtigste tot vroomheid te stem (Stone 1997:167).

In die onderste linkerhelfte is twee besonder tragiese figure. Albei is opgehang. Op die heel linkerkantste een se bors is ’n kruis uitgekerf. In die middel van die skildery is die vlot van lyke wat, soos gemeld, met seestrome na die Ridders gestuur is. Geïntegreer met hierdie historiese verwysings is spesifieke heenwysings na Christelike martelaarskap (Stone 1997:168). Links bo is daar drie mans wat aan ’n boom vasgemaak en met pyle geskiet is – soos Sint Sebastiaan. Aan die regterkant word ’n ander ridder onderstebo gekruisig – soos Sint Petrus. Regs van hierdie kruisiging is ’n koplose borskas, met sy kop skuins onder hom (Figure 8 en 10). Een kop in die besonder (Figure 8 en 11) blyk ’n nabootsing van Johannes in Die onthoofding te wees of selfs daarmee te kompeteer (Stone 1997:168).

Figuur 10. Detail van Figuur 8

Figuur 11. Detail van Figuur 8 

Die martelaarsaspek van die skildery word eksplisiet beskryf in die Latynse inskripsie wat later bygevoeg is: 

In die jaar ons Heer 1692 is hierdie gedenkstuk hier geplaas wat die roemryke soldate van Christus, wat omgord is met die wapenrusting van geloof, wat beskerm is met die skild en helms van mededoë en wat gely het gedurende die Beleg van die eiland Malta, op heldere wyse uitbeeld. En soveel bloedvergieting en soveel vorme van martelaarskap het hulle verduur, waardeur hulle glorie vir die orde en, deur hulle koppe, krone van onsterflikheid verwerf het (Stone 1997:168; vertaling deur skrywer).

Die skildery is duidelik bedoel om saam met Die onthoofding vertoon te word in ’n poging om die parmantige, swaardswaaiende jeug van Europa se adelstand te omvorm tot ’n verenigde korps van godvresende Christen-soldate (Stone 1997:168); dit was die perfekte opvoedkundige gereedskap vir hulle opleiding.

Die skildery se skokkende beelde is gebruik om ontsag, geloof en heldhaftigheid by die jong Ridders te inspireer. Die Oratorium is juis vir sulke lesse gebou en die skilderye is ontwerp en vertoon om ’n gedenkwaardige, selfs mnemoniese vorm daaraan te gee. ’n Mens kan jou die jongelinge van die Orde voorstel waar hulle die twee skilderye op die altaar oordink terwyl hulle lesings kry omtrent hoe hulle voorgangers “krone van onsterflikheid” met hulle koppe verwerf het (Stone 1997:168).

Die trefkrag van die preke is verdubbel deurdat die Oratorium bo-oor die genoemde begraafplaas van die slagoffers van die Beleg gebou is. Dié begraafplaas, wat steeds in verskraalde vorm bestaan, dra ’n groot gedenkplaat met die name van die Ridders wat tydens die Beleg gesterf het. Omdat die oorspronklike ingang van die Oratorium nie deur die hoofkerk nie, maar deur die begraafplaas was, moes die nuwelinge voor elke lesing oor die beendere van die martelaars van 1565 marsjeer (Stone 1997:168). Die didaktiese, gedenkwaardigheids- en seremoniële waarde van Die martelaarskap het in simbiose met Caravaggio se Die onthoofding gefunksioneer (Stone 1997:169). Die Ridders se Oratorium of klaskamer het gedien om nuwelinge op te lei in die aard, geestelike omgewing en omstandighede van ’n wrede, bloeddorstige dood. Die twee skilderye weerspieël die wrede, bloeddorstige realiteite van ’n geveg met die Turke.

 

5. Slotwoord 

Die doel van hierdie artikel was om die ontstaan, konteks en opvoedkundige gebruik van Caravaggio se Die onthoofding van Sint Johannes die Doper te ondersoek. Hoewel die presiese aard van die gebeure en praktyke van meer as 400 jaar gelede moeilik volledig aan die hand van enkele bronne – soos Stone (1997) – bepaal kan word, is die doel wel gedeeltelik bereik.

Die onthoofding is teen die middel van Julie 1608 voltooi. Dit was ’n groot sukses. Alof de Wignacourt was baie beïndruk daarmee en het vir Caravaggio, benewens ’n goue ketting om die nek, twee slawe gegee. Hy was inderdaad ’n man van betekenis op Malta (Graham-Dixon 2010:385). 

Hierdie situasie was egter van korte duur. Binne enkele weke, en wel in die eerste helfte van Augustus 1608, raak Caravaggio betrokke by die ernstige aanranding op ’n mederidder, Giovanni Rodomonte Roero (Graham-Dixon 2010:387). Op 28 Augustus 1608 word hy in die tronk in Fort Sint Angelo gegooi. Hy ontsnap op byna bomenslike wyse, maar word op 1 Desember 1608 in sy afwesigheid – voor sy eie indrukwekkende skildery – op vernederende wyse as “’n verrotte en afgestorwe lidmaat” van sy ampsdrag ontneem (Graham-Dixon 2010:391–2). 

Caravaggio was weer eens ’n voortvlugtige.

 

Bibliografie

Allen, B.W. 2015. The Great Siege of Malta. The epic battle between the Ottoman Empire and the Knights of St John. Libanon: ForeEdge.

Balbi, F. 1568. The Siege of Malta 1565. Vertaling van Spaanse uitgawe van 1568 deur Ernle Bradfort. Londen: Penguin Books.

Graham-Dixon, A. 2010. Caravaggio – a life sacred and profane. Londen: Penguin Books. 

Louw, N.P. Van Wyk. 2002. N.P. van Wyk Louw: Versamelde gedigte. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers en Human & Rousseau. 

Mercieda, S. 2016. The Knights of St John of Malta. Luqa: Miller.

Miller Distributors Ltd. 2019. Malta & its islands. Malta: Miller Distributors. Pinterest. https://za.pinterest.com/pin/366199013454556484 (20 Julie 2020 geraadpleeg).

Pretorius, J.P.H. 2013. ’n Persoonlike waardering van Michelangelo Merisi da Caravaggio (1571‒1610). LitNet Akademies, 10(1):475–512. https://www.litnet.co.za/n-persoonlike-waardering-van-michelangelo-merisi-da-caravaggio-1571-1610 (20 Julie 2020 geraadpleeg).

—. 2020. Hoe Paulus die Beleg van Malta in 1565 gewen het. https://www.litnet.co.za/hoe-paulus-die-beleg-van-malta-in-1565-gewen-het (20 Julie 2020 geraadpleeg).

Schütze, S. 2017. Caravaggio: The complete works. Keulen: Taschen.

Stone, D.M. 1997. The context of Caravaggio’s “Beheading of St John” in Malta. The Burlington Magazine, 139(1128):161‒70.

Wignacourt-museum. Portraits of Grand Master Alof de Wignacourt. http://www.wignacourtmuseum.com/info/portraits_of_grand_master_alof_de_wignacourt (20 Julie 2020 geraadpleeg).

Wikidata. Alof de Wignacourt. https://www.wikidata.org/wiki/Q945164#/media/File:Alof_Louvre.jpg (20 Julie 2020 geraadpleeg). 

Wikimedia. Sint Hieronymus wat skryf. https://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/b/b1/CaravaggioJeromeValletta.jpg (20 Julie 2020 geraadpleeg).

Wikimedia Comm0ns. Die onthoofding van Sint Johannes die Doper. https://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/b/b2/La_decapitaci%C3%B3n_de_San_Juan_Bautista%2C_por_Caravaggio.jpg (20 Julie 2020 geraadpleeg).

Wikipedia. Fra Antonio Martelli. https://en.wikipedia.org/wiki/Portrait_of_Fra_Antonio_Martelli_(Caravaggio)#/media/File:Portrait_of_Fra_Antonio_Martelli-Caravaggio_(1610).jpg (20 Julie 2020 geraadpleeg).

Writingcities. Die kriminele tribunaal van die Ridders van Malta in die Oratorium van S. Giovanni Decollato in die Medekatedraal van Sint Johannes, Valletta. https://i2.wp.com/writingcities.com/wp-content/uploads/2016/11/Screen-Shot-2016-11-08-at-11.00.21.png (20 Julie 2020 geraadpleeg).

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Die konteks van die ontstaan en opvoedkundige rol van Caravaggio se <i>Die onthoofding van Sint Johannes die Doper</i> in die 17de eeu appeared first on LitNet.

’n Hond, ’n hottentotsgot en literêre prestige: Instagram as rolspeler in die Afrikaanse literêre sisteem

$
0
0

’n Hond, ’n hottentotsgot en literêre prestige: Instagram as rolspeler in die Afrikaanse literêre sisteem

Burgert Senekal, Departement Rekenaarwetenskap en Informatika, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 17(3)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Sosiale media het oor die afgelope dekade en ’n half ’n al hoe groter rol in die menslike leefwêreld begin speel. Ook ten opsigte van die Afrikaanse letterkunde het sosiale media ’n belangrike rol begin inneem, met heelwat van die gesprek rondom die Afrikaanse literatuur wat tans op sosialemediaplatforms plaasvind. In die huidige artikel word plasings oor gekanoniseerde Afrikaanse skrywers op Instagram, ’n jong, fotogebaseerde sosialemediaplatform, verken. Daar word aangetoon oor watter van die Afrikaanse skrywers wat in die nuutste uitgawe van Perspektief en profiel opgeneem is, die meeste geplaas word, en die hutsmerkernetwerk word ook onttrek en as netwerk ontleed. Met behulp van ’n algoritme wat gemeenskappe identifiseer, word aangetoon watter skrywers gereeld saam genoem word, en voorbeelde van plasings word ook verskaf. Daar word ook uitgelig watter belangrike rol die digkuns inneem in plasings oor die Afrikaanse literatuur op hierdie platform, asook die rol wat die Afrikaanse musiek, drama en kunstefeeste speel. Ten slotte dui die artikel aan dat skrywers se name nie net op hierdie platform (wat veral deur jongmense gebruik word) voortleef nie, maar ook op verrassende wyses voortleef deur die dinge wat na skrywers vernoem word en die plekke wat sosialemediagebruikers besoek. Voorstelle vir verdere navorsing word gemaak.

Trefwoorde: Afrikaanse literêre kanon; Instagram; literêre sisteem; Perspektief en profiel; sosiale media

 

Abstract 

A dog, a praying mantis and literary prestige: Instagram as role player in the Afrikaans literary system 

Authors’ continuing prestige can be seen in various ways, for example by whether they are still being studied, whether their works are included in anthologies, whether they are discussed in literary histories, whether their works are still prescribed, or whether intertextual references are still made to them. A variety of studies have already been undertaken in the study of Afrikaans literature that examine such mentions of and references to authors with the aim of determining whether they still function within the literary system or whether they have been forgotten. However, previous studies within Afrikaans literary studies have only investigated mentions of authors in literary histories, academic publications and in the mainstream media, their inclusion in anthologies, and where authors have entered into discussions with their predecessors; mentions of authors on social media have, however, not been investigated.

Over the past decade and a half, social media have begun to play an increasingly significant role in the human world. Also with regard to Afrikaans literature social media have begun to play an important role, with much of the discussion surrounding Afrikaans literature currently taking place on social media platforms, which means that these platforms have also become part of the Afrikaans literary system, in addition to the established platforms such as websites, newspapers, journals, books, dissertations and theses. In South Africa, WhatsApp is currently the most popular social media platform, followed by YouTube, Facebook, Facebook Messenger, Instagram and Twitter. 

Instagram was founded in 2010 and is a fast-growing platform, worldwide as well as in South Africa. It is a photo-based platform used mainly by young people – statistics, worldwide as well as in South Africa, indicate that around two thirds of Instagram users are under the age of 34. This young demographic creates new opportunities to explore what is important to young people and how they interact with social media. The current article investigates the posts around a number of canonised Afrikaans authors on Instagram.

A list of authors about whom profiles have been included in the latest edition of the Afrikaans literary history Perspektief en profiel (Perspective and profile) was compiled, and posts marked with hashtags referring to them were collected, along with metadata such as the date of posting, captions, likes and other hashtags associated with the posts. These posts are analysed within network theory – an approach within systems theory – and there is a particular focus on degree centrality and modularity. The study identified the authors most often referred to in posts and found that many of the older authors remain important on this platform, although authors that have been translated seem to be more popular. In addition, the hashtag network was also extracted and analysed as a network. Using an algorithm that identifies communities, it is indicated which authors are often mentioned together, and examples of posts are also provided.

The article highlights, among other things, the important role that poetry plays in posts about Afrikaans literature on this platform, as well as the role of Afrikaans music, drama and arts festivals. Finally, the article indicates that writers’ names survive not only on this platform, which is used especially by young people, but also in surprising ways through things named after writers and the places that social media users visit. It is shown that canonised Afrikaans writers are often placed in an everyday context, for example by posting photos where a user is reading a book on the beach, or photos of landscapes that remind the user of a poem, or by naming a pet after a writer. Otherwise, Instagram is also used as a marketing platform. As this study is exploratory in its nature, suggestions are also made for further research that could focus on individual authors.

Keywords: Afrikaans literary canon; Instagram; literary system; Perspektief en profiel; social media

 

1. Inleiding

Skrywers funksioneer op verskeie maniere in die literêre sisteem. Daar is byvoorbeeld heruitgawes van werke, parodieë, toonsettings, verwerkings (byvoorbeeld na toneel of film), onderrig, vertalings, aanhalings en intertekstuele verwysings. 

Van Vuuren (2006:281) voer aan:

Solank daar gesprekvoering of intertekstualiteit is, is daar blywende nawerking, wat dui op die lewenskragtigheid van die ouer oeuvre. Sitering, gesprekvoering, inversie – alle vorme van intertekstualiteit met die vroeër digter bly bevestiging van sy statuur en huldiging.

In Van Coller (2004) word ondersoek ingestel na vermeldings van Etienne Leroux oor verskeie platforms heen ten einde aan te dui dat die skrywer se sigbaarheid ’n aanduiding is daarvan dat hy nie vergete is nie. Met verwysing na Van Coller (2004) let Viljoen (2008) daarop dat N.P. Van Wyk Louw teen 2008 “nog steeds een van die sterkste figure in die kanon van die Afrikaanse letterkunde is”. Sy baseer haar uitspraak daarop dat hy sterk in literatuurgeskiedenisse figureer, heruitgawes van sy werke steeds gepubliseer word, hy vertaal word, steeds onderrig word, steeds in bloemlesings opgeneem word, sy werke steeds verwerk word, ens. 

Meer onlangs skryf Du Plooy (2014:539):

Of Louw se werk gewoon aan skoolleerlinge en studente onderrig word, of hy opnuut gelees en herontdek word, of sy werk deel word van wetenskaplike historiografiese ondersoeke en ordeninge, of sy gedigte en dramas aan nuwe teoretiese leesstrategieë onderwerp word, of sy standpunte kultuurkrities gedekonstrueer en gekritiseer word, of sy poëtika ontleed, nagevolg of juis verwerp word, hy figureer steeds binne die diskoers.

Die huidige artikel sluit by Van Coller (2004), Van Vuuren (2006), Viljoen (2008) en Du Plooy (2014) aan deur ondersoek in te stel na hoe die publiek omgaan met die Afrikaanse literêre kanon deur die sosialemediaplatform Instagram. Instagram is ’n fotogebaseerde platform waar gebruikers foto’s en video’s kan plaas en met ’n hutsmerker (“hashtag”) kan merk, waarna ander gebruikers kommentaar kan lewer of aandui dat hulle van die plasing hou. Alhoewel nie die gewildste sosialemediaplatform in Suid-Afrika nie, is Instagram ’n unieke platform wat oor die laaste paar jaar in gewildheid toegeneem het, soos ten opsigte van die interaksie met die Afrikaanse literatuur in die huidige artikel aangedui word. 

Die huidige studie dui aan watter van die skrywers wat in die nuutste uitgawes van Perspektief en profiel (Van Coller 2015, 2016a, 2016b) opgeneem is, die sterkste in plasings op Instagram figureer. Die hutsmerkernetwerk word onttrek en binne die netwerkteorie ontleed ten einde aan te dui watter begrippe saamhang met plasings oor Afrikaanse skrywers. Beperkinge en verdere navorsingsgeleenthede word ook bespreek.

 

2. Instagram as rolspeler in die Afrikaanse literêre sisteem 

Vanuit die perspektief van die sisteemteorie val die klem op die verhoudinge binne ’n sisteem, eerder as op die individuele eienskappe van entiteite (Wyseur 2011:25). Die sisteemteorie gaan van die uitgangspunt uit dat entiteite nie los van mekaar bestaan nie. Entiteite is verweef met ander entiteite en die sub- en supersisteme waarbinne hulle hul bevind, en hul bestaan is te danke aan hierdie verhoudinge. In die geval van die literêre sisteem, wat in Afrikaans byvoorbeeld deur Senekal (1987), Galloway (1987), Venter (2006), Kleyn (2013), Senekal (2014 en 2017) en Van Heerden (2017) bestudeer is, val die klem op die verhoudinge tussen byvoorbeeld skrywers, resensente, letterkundiges, tydskrifte, instellings en dergelike. (Vir ’n uitgebreide oorsig oor die sisteemteorie binne die Afrikaanse literatuurstudie, sien Kleyn 2013.) Voor die digitale era het tydskrifte soos Tydskrif vir Letterkunde en Standpunte ’n belangrike rol in die Afrikaanse literêre sisteem gespeel, maar in Senekal (2014) is aangedui dat webtuistes soos Versindaba en LitNet ook ’n sleutelrol in die hedendaagse Afrikaanse poësiesisteem ingeneem het. 

Hierby sou ’n mens sosialemediaplatforms kon voeg, wat sedert die bekendstelling van Facebook in 2004 ’n al hoe belangriker rol in die menslike leefwêreld begin speel het. In Suid-Afrika het sosiale media ’n penetrasie van 36% van die totale bevolking, met 22 miljoen gebruikers (Kemp 2020). WhatsApp is die gewildste platform, gevolg deur YouTube, Facebook, Facebook Messenger, Instagram en Twitter (Kemp 2020). Die meeste van hierdie platforms funksioneer ook binne die Afrikaanse literêre sisteem deurdat hulle vir gesprekvoering en bemarking aangewend word – verskeie skrywers het byvoorbeeld Facebook-blaaie en Twitter-rekeninge waardeur hulle met hul lesers in gesprek tree. In Senekal (2019) is ondersoek ingestel na die gesprek op Twitter rondom Deon Meyer, waar aangedui is hoe lesers met die skrywer in gesprek tree en hoe Twitter deur uitgewerye as bemarkingsplatform aangewend word. 

Instagram is in 2010 deur Kevin Systrom en Mike Krieger gestig en het binne minder as drie maande reeds oor ’n miljoen gebruikers gehad (Latiff en Safiee 2015:14). Teen 2016 het Instagram wêreldwyd reeds 400 miljoen aktiewe gebruikers gehad, teenoor Twitter se 320 miljoen op daardie stadium (Phua, Jin en Kim 2017:412). Tans het Instagram meer as ’n miljard aktiewe gebruikers elke maand en meer as 500 miljoen gebruikers per dag (Aslam 2020). In Suid-Afrika is Instagram die vyfde gewildste platform (na WhatsApp, YouTube, Facebook en Facebook Messenger) onder persone tussen die ouderdom van 16 en 64 jaar wat sosiale media gebruik – dit word naamlik deur 61% van gebruikers gebruik (Kemp 2020). Dié platform laat gebruikers toe om foto’s en kort video’s met volgelinge te deel, kommentaar te lewer of net aan te dui dat hulle van ’n plasing hou. Daar word tans daagliks rondom 100 miljoen foto’s en video’s op Instagram geplaas (Aslam 2020 en Internet Live Stats 2020) en daar is reeds meer as 50 miljard foto’s op hierdie platform gelaai (Aslam 2020).

Omdat Instagram so ’n jong platform is, is navorsing oor die waarde van Instagram nog baie beperk. Die meerderheid studies van Instagram fokus op sosialisering (Lup, Trub en Rosenthal 2015), bemarking (Phua, Jin en Kim 2017, Latiff en Safiee 2015 en Bergström en Bäckman 2013) en taalonderrig (Andujar en Çakmak 2020). Binne die letterkunde is daar al ondersoek ingestel na Instagram as voertuig vir e-literatuur in digvorm (Berens 2019).

Instagram is ’n platform wat veral deur jongmense gebruik word, en veral tieners verkies gereeld Instagram bo Facebook (Anderson en Jiang 2018 en Duncan 2016). Volgens Aslam (2020) is 30% van wêreldwye Instagram-gehore tussen 18 en 24 jaar oud en 35% tussen 25 en 34 jaar oud, wat beteken dat amper twee derdes van Instagram-gebruikers onder 34 jaar oud is. Boonop gebruik omtrent 72% van tieners Instagram (Aslam 2020). In Suid-Afrika is 34,1% van Instagram-gebruikers tussen 25 en 34 jaar oud en die tweede grootste gebruikersgroep is 18- tot 24-jariges, met ’n aandeel van 30,8% (Clement 2020). Hierdie jong fokus van Instagram is belangrik om in die huidige studie in ag te neem: Wanneer plasings oor Afrikaanse skrywers op Instagram gemaak word, is dit dus veral jongmense wat die plasings maak (die presiese ouderdomme van gebruikers is egter onbekend). Sulke plasings toon met ander woorde watter skrywers ter sake bly vir ’n jonger geslag, anders as ’n studie van skrywers se vermeldings in akademiese artikels of literatuurgeskiedenisse wat skrywers se sigbaarheid in ’n ander milieu en onder ’n ander demografie ondersoek.

Soos op Twitter word plasings op Instagram gewoonlik met hutsmerkers gemerk om aan te dui dat die plasing binne ’n bepaalde diskoers tuishoort, maar plasings word selde met slegs een hutsmerker gemerk. Kyk byvoorbeeld na die volgende plasing oor Eugène Marais, wat op 4 Junie 2017 gemaak is: “Another literary figure serves as #geocaching inspiration – #EugeneMarais. #geocachingsouthafrica.” In hierdie plasing is drie hutsmerkers teenwoordig. Die teenwoordigheid van verskillende hutsmerkers dui op die verskillende sisteme waarbinne ’n plasing tuishoort – in hierdie geval die Afrikaanse literêre sisteem en die stokperdjie van geocaching (’n tydverdryf soortgelyk aan ’n skattejag wat met slimfone en GPS-verwysings gedoen word). Skrywers funksioneer gereeld binne verskeie subsisteme in die literêre sisteem en ook in ander sisteme daarbuite, soos Kleyn (2013:43) skryf: “Die literêre sisteem is ’n oop sisteem wat nie onafhanklik van of onbeïnvloed deur ander sisteme staan nie, en wat met die direkte omgewing (en subsisteme) in interaksie is.” ’n Hutsmerkernetwerk verskaf dan ’n manier om ondersoek in te stel na hoe ’n skrywer binne ander sisteme funksioneer. In so ’n geval word hutsmerkers as nodusse aangedui en ’n skakel kom voor indien hulle saam in ’n plasing voorkom. Sodoende kan ’n netwerk saamgestel word en binne die netwerkteorie ontleed word. 

Die netwerkteorie is ’n benaderingswyse tot sisteme en deel die sisteemteoretiese uitgangspunt dat entiteite (gewoonlik nodusse genoem) nie in isolasie beskou kan word nie. Die netwerkteorie is ’n kwantitatiewe, rekenaargesteunde en datagedrewe benaderingswyse wat veral vervleg is met die hedendaagse grootdata-omgewing, insluitend sosiale media. Daar is reeds ’n groot hoeveelheid oor die netwerkteorie gepubliseer, ook met betrekking tot die Afrikaanse literêre sisteem (Senekal 2014 en 2017), en daarom word daar nie in die huidige artikel in besonderhede ingegaan op verskillende aspekte daarvan of hoe dit binne die sisteemteorie funksioneer nie (vir ’n bespreking van raakpunte tussen die sisteem- en netwerkteorie, sien Senekal 2014). Twee aspekte is egter hier van spesiale belang: gemeenskapsvorming en graadsentraliteit. 

Graadsentraliteit is die eenvoudigste meting waarmee ’n nodus se belangrikheid in ’n netwerk bepaal kan word en meet bloot die getal direkte skakels van ’n nodus (Bergsund 2017:25 en Nøkleberg 2014:46). Nodusse met ’n hoë graadsentraliteit is gewoonlik baie aktiewe nodusse (Freeman 1979:221) en in die huidige studie sal ’n hoë graadsentraliteit daarop dui dat ’n hutsmerker saam met ’n groot aantal ander hutsmerkers voorkom. Ander sentraliteitsaanduiders wat deur Freeman (1979) ontwikkel is en gewoonlik tydens ’n netwerkontleding ingesluit word, is nabyheidsentraliteit en tussenliggingsentraliteit (Bergsund 2017 en Nøkleberg 2014). Aangesien daar in die huidige studie slegs na sigbaarheid, en daarom nodusse wat met ’n hoë frekwensie in ’n datastel voorkom, ondersoek ingestel word, word die ontleding egter tot graadsentraliteit beperk.

Die meerderheid netwerke bestaan uit onderling identifiseerbare gemeenskappe. ’n Gemeenskap kom voor waar daar meer intra- as intergemeenskapskakels is, met ander woorde waar die skakels tussen ’n groep nodusse só dig is dat ’n gemeenskap geïdentifiseer kan word. Gemeenskapsvorming word met behulp van modulariteit (Q) gemeet (Blondel, Guillaume, Lambiotte en Lefebvre 2008), wat ondersoek instel na die aantal skakels wat wel aangetref word minus die getal skakels wat verwag sou word indien skakelvorming lukraak plaasgevind het (Senekal 2015 en Lambiotte, Delvenne en Barahona 2009:13).1 Die modulariteit van die netwerk lê tussen 0 en 1 (vir ’n meer tegniese uiteensetting van modulariteit, sien Senekal 2015). 

Die identifisering van gemeenskappe hang ook af van die resolusie: Soos mense op een vlak Vrystaters en Kapenaars is, maar op ’n ander Suid-Afrikaners en op ’n ander Bloemfonteiners en Stellenbossers, is twee gemeenskappe op ’n ander vlak slegs een gemeenskap of op ’n laer vlak dalk drie gemeenskappe. Die resolusie kan binne die algoritme van Blondel e.a. (2008) verfyn word om meer of minder gemeenskappe te identifiseer, maar in die bespreking hier onder word dié algoritme hoofsaaklik vir sy heuristiese waarde aangewend: Gemeenskappe word geïdentifiseer ten einde ondersoek in te stel na hoe die netwerk saamgestel is.

Daar moet egter onthou word dat daar wel skakels tussen verskillende gemeenskappe bestaan; wanneer daar geen skakels is nie, word na so ’n groep nodusse as ’n komponent verwys (waar die komponent geen verbindings met die res van die netwerk het nie).

 

3. Metodes

In hierdie studie is foto’s en video’s vanaf Instagram versamel wat gemerk is met hutsmerkers wat verwys na die 73 skrywers waaroor profiele in die nuutste weergawe van Perspektief en profiel (Van Coller 2015, 2016a en 2016b) opgeneem is. Hierdie skrywers is gekies omdat die studie beperk moes word tot ’n lys van skrywers wat (a) betreklik onlangs saamgestel is, (b) gesaghebbend saamgestel is en (c) algemeen gesien word as belangrik in die Afrikaanse literatuur. Aangesien Perspektief en profiel een van die mees gesaghebbende literatuurgeskiedenisse in Afrikaans is, onlangs gepubliseer is en skrywers insluit wat algemeen as belangrike skrywers geag word, is Perspektief en profiel se keuse hier gebruik eerder as wat ek self ’n lys van skrywers saamstel wat die keuse van in- en uitsluiting meer aanvegbaar sou maak.

Die versameling van plasings is met behulp van die Apple-toepassing InstaBro gedoen, wat ook die versameling van byskrifte en ander metadata (kyk verderaan) benewens die foto’s en video’s self bemiddel. Foto’s en video’s is op 14 Februarie 2020 versamel, maar aangesien Instagram ’n mens toelaat om data terugwerkend te versamel, strek die versameling plasings terug na April 2012, toe die eerste plasing oor hierdie skrywers gemaak is. Dít is ’n groot voordeel van die bestudering van Instagram teenoor Twitter: In Senekal (2019) kon slegs na ’n tydperk van ses maande ondersoek ingestel word omdat data nie terugwerkend versamel kon word nie, maar in die huidige studie kan data ontleed word wat oor sewe jaar strek en ook die eerste plasings insluit. Plasings ná 31 Desember 2019 is egter uit die datastel verwyder ten einde volledige jare se plasings te kan ontleed.

Foto’s en video’s is tesame met hul byskrifte en metadata soos die datum en tyd van die plasing, die getal kere wat aangedui is of gebruikers van die plasing hou, en die getal kommentare versamel. Gebruikers se name word nie ingesluit in die metadata wat InstaBro versamel nie en word eerder vervang met ’n unieke kode, wat etiese uitdagings rondom die privaatheid van gebruikers vermy.2 Alle profiele wat ingesluit word, is openbare profiele, wat beteken dat die navorser nie gebruikers hoef te volg om hul plasings te bekom nie. Boonop is die voorbeelde van plasings wat later in die huidige artikel weergegee word, só gekies dat gebruikers se gesigte nie sigbaar is nie, ten einde hul anonimiteit te bewaar. Anders as in Senekal (2019) is geen geografiese inligting oor gebruikers beskikbaar nie.

Na die data versamel is, is dit handmatig skoongemaak om ontersaaklike plasings te verwyder. Daar was byvoorbeeld ’n Abraham de Vries wat ’n 17de-eeuse Nederlandse skilder was, ’n Totius wat ’n laat 16de-eeuse kaart is, ’n John Miles wat ’n Britse musikant is, en ’n Chris Barnard wat ’n hartchirurg was en ’n ander ’n fiksheidsghoeroe. Plasings wat na ander persone of die kaart verwys, is verwyder. In John Miles en Chris Barnard se geval het die groot hoeveelheid ruis (ontersaaklike plasings) dit nie moontlik gemaak om tersaaklike plasings te behou nie en alle plasings is gevolglik uit die datastel verwyder. 

Sommige plasings verwys na skole en hospitale wat na skrywers vernoem is, byvoorbeeld Hoërskool D.F. Malherbe in Port Elizabeth, Laerskool Totius in Bellville, Laerskool Totius in Vanderbijlpark en Eugène Marais Hospitaal in Pretoria. Daar is ook ’n hond met die naam Totius en ’n gebruiker wat sy hottentotsgot Eugène Marais genoem het en foto’s daarvan plaas. Aangesien hierdie plasings wel na iets verwys wat na ’n skrywer vernoem is, is sulke plasings behou. Die gedagte is dat die vernoeming van ’n hospitaal, skool of dier na ’n skrywer ook ’n aanduiding is dat die skrywer nie vergete is nie. In die lig van Van Vuuren (2006:281) se reeds genoemde stelling is dit byvoorbeeld betekenisvol dat ’n hond steeds na Totius vernoem word en ’n hottentotsgot na Eugène Marais. Sulke verwysings dui daarop dat ’n skrywer se prestige voortleef, alhoewel dit weliswaar nie die soort vermeldings is wat in Van Coller (2004) bestudeer is nie. Nietemin verhoog sulke voorkomste van ’n skrywer se naam sy sigbaarheid.

Ten einde alle hutsmerkers te onttrek, is van ’n gereelde uitdrukking3 gebruik gemaak wat deur die teks soek en alle hutsmerkers onttrek en in aparte kolomme in ’n sigblad plaas. Hierdie hutsmerkers is daarna in die netwerkontledingsprogram Gephi as ’n netwerk voorgestel waar hutsmerkers as nodusse voorgestel is en ’n skakel tussen hutsmerkers aangedui is indien hutsmerkers in dieselfde plasing gebruik is. Gephi is vir netwerkvisualisasie ontwikkel, maar laat ook die meerderheid basiese netwerkontledings toe, insluitend makro-, meso- en mikrovlakontledings. Die huidige artikel ondersoek nie die makrovlakeienskappe van hierdie netwerk nie, wat fasette soos die gemiddelde pad, gemiddelde oorganklikheid en skakelverspreidingspatroon van nodusse sou insluit, maar onderneem wel ’n mesovlakverkenning deur gemeenskapsvorming met behulp van modulariteit te ondersoek en ’n beperkte mikrovlakontleding deur graadsentraliteit te gebruik, soos in die vorige afdeling gestel. 

Die versameling van plasings wat met hutsmerkers gemerk is wat na skrywers verwys wat in Van Coller 2015, 2016a en 2016b opgeneem is, bring ’n aantal beperkings mee. Eerstens beteken hierdie werkswyse dat ’n vooroordeel bestaan teenoor skrywers wat tans binne die akademie as belangrik geag word, met ander woorde nie skrywers oor wie profiele vroeër in Perspektief en profiel opgeneem is maar later weggelaat is nie, byvoorbeeld die Hobson-broers wat in vorige uitgawes van Perspektief en profiel (byvoorbeeld Nienaber 1951) ingesluit was. Toetse het egter aangetoon dat daar min, indien enige, plasings oor sulke skrywers op Instagram gemaak word.

Tweedens word slegs gekanoniseerde skrywers ingesluit. Dit beteken dat dit nie hier gaan om die bestudering van die publiek se omgang met die Afrikaanse literatuur in geheel nie, maar spesifiek hul omgang met die kanon. Skrywers soos Dana Snyman, Jaco Jacobs en Fanie Viljoen, oor wie heelwat plasings op Instagram gemaak word, is met ander woorde uitgesluit en kan in toekomstige studies ondersoek word. 

Instagram is ook nie verteenwoordigend van die Afrikaanse publiek nie: Hierdie platform word veral deur jongmense gebruik en baie mense het nie Instagram-rekeninge nie. Die bevindinge kan dus nie veralgemeen word na ’n siening dat skrywers x en y hiervolgens byvoorbeeld die “gewildste” skrywers is nie – die studie fokus op ’n baie spesifieke platform.

 

4. Instagram-plasings oor gekanoniseerde Afrikaanse skrywers

Figuur 1 verskaf ’n opsomming van die datastel.

Figuur 1. ’n Opsomming van die datastel

Daar was 7 157 plasings oor hierdie skrywers op Instagram tussen 18-4-2012 (die datum van die eerste plasing) en 31-12-2019, wat beteken dat plasings oor sewe jaar, 92 maande of 2 813 dae gemaak is (die eerste plasing het betrekking op Etienne Leroux en die laaste plasing verwys na Antjie Krog). Dit beteken ook dat ’n gemiddeld van 2,54 plasings per dag, 77,79 per maand of 1022,43 per jaar gemaak is, wat relatief min is gegewe dat daar wêreldwyd meer as 100 miljoen plasings per dag op hierdie platform gemaak word. Die meeste plasings is op ’n Vrydag (14,73% van die totaal) gemaak en die minste plasings op ’n Maandag (13,86% van die totaal). Hierdie klein verskil tussen die meeste en die minste plasings dui daarop dat daar nie werklik ’n voorkeur ten opsigte van die dag van die week is nie; plasings word regdeur die week gemaak. Dit beteken dat gebruikers deur die hele week met die Afrikaanse literêre kanon in gesprek tree op Instagram.

Plasings het oor die algemeen per jaar toegeneem (bo in Figuur 1): 19 plasings is in 2012 gemaak, 89 plasings in 2013 (’n 368,42%-toename), 262 plasings in 2014 (’n 194,38%-toename), 757 plasings in 2015 (’n 188,93%-toename), 1 116 plasings in 2016 (’n 47,42%-toename), 1 549 plasings in 2017 (’n 38,8%-toename), 1 545 plasings in 2018 (’n 0,26%-afname), en 1 820 plasings in 2019 (’n 17,8%-toename). In die diagram in die middel links word ook die aantal gebruikers aangedui wat plasings oor hierdie skrywers maak, waar gesien kan word dat gebruikers ook oor die algemeen per jaar toeneem. 

Hierdie plasings is deur 3 963 unieke gebruikers geplaas met ’n gemiddeld van 1,81 plasings per gebruiker, maar die plasings per gebruiker verskil tussen jare: In 2012 is daar 1,12 plasings per gebruiker gemaak, in 2013 1,14 plasings, in 2014 1,24, in 2015 1,57, in 2016 1,46, in 2017 1,48, in 2018 1,58 en in 2019 1,73 plasings per gebruiker. Terwyl die aantal gebruikers wat plasings oor hierdie skrywers maak met ander woorde toeneem, neem hulle individuele aktiwiteit ook toe.

Plasings is oorwegend in fotoformaat (middel regs in Figuur 1), met 6 871 foto’s (96% van plasings) teenoor 286 video’s (4% van plasings). Aangesien Instagram oorwegend ’n fotogebaseerde platform is (anders as byvoorbeeld YouTube), is dit nie verrassend dat die meerderheid plasings foto’s is nie.

Die grafiek links onder toon dat gebruikers die meeste aangedui het dat hulle van plasings oor Deon Meyer, Koos Kombuis en Ingrid Jonker gehou het. Regs onder word aangedui watter getal plasings oor watter skrywer gemaak is, waar gesien kan word dat die meeste plasings oor Deon Meyer handel, gevolg deur Koos Kombuis, Ingrid Jonker en Antjie Krog. Tabel 1 verskaf meer besonderhede oor die getal plasings per skrywer. 

Tabel 1. Getal plasings per skrywer 

Skrywer

Getal plasings

1. Deon Meyer

1 526

2. Koos Kombuis

1 225

3. Ingrid Jonker

979

4. Antjie Krog

622

5. Breyten Breytenbach

346

6. Totius

254

7. Dalene Matthee

228

8. Adam Small

194

9. Marita van der Vyver

151

10. Reza de Wet

151

11. C.J. Langenhoven

134

12. N.P. Van Wyk Louw

129

13. André P. Brink

120

14. Eugène Marais

117

15. Marlene van Niekerk

89

16. Eben Venter

86

17. D.F. Malherbe

72

18. D.J. Opperman

68

19. Wilma Stockenström

66

20. Boerneef

61

21. Joan Hambidge

47

22. Etienne van Heerden

46

23. Karel Schoeman

46

24. A.G. Visser

42

25. T.T. Cloete

39

26. Ingrid Winterbach

38

27. Lina Spies

37

28. Elisabeth Eybers

36

29. Uys Krige

35

30. Jan Rabie

29

31. P.G. du Plessis

27

32. Riana Scheepers

27

33. Deon Opperman

25

34. Sheila Cussons

22

35. Jeanne Goosen

21

36. Hennie Aucamp

18

37. Etienne Leroux

15

38. Pieter Fourie

15

39. Eleanor Baker

13

40. F.A. Venter

12

41. Dan Sleigh

11

42. Ernst van Heerden

9

43. Koos Prinsloo

9

44. Johann de Lange

8

45. W.E.G. Louw

7

46. Alexander Strachan

6

47. Ina Rousseau

5

48. Olga Kirsch

5

49. George Weideman

4

50. H.A. Fagan

4

51. I.D. du Plessis

4

52. G.A. Watermeyer

3

53. Jan F.E. Celliers

3

54. Louis Esterhuizen

3

55. Rachelle Greeff

3

56. S.J. Pretorius

3

57. Abraham H. de Vries

2

58. Anna M. Louw

2

59. J.C. Steyn

2

60. Barend J. Toerien

1

61. C.M. van den Heever

1

62. Johann Lodewyk Marais

1

63. Piet van Rooyen

1

64. Tom Gouws

1

 

In Tabel 1 kan gesien word watter skrywers die gewildste op Instagram is. Dit is ook duidelik dat skrywers wat in meer as een sisteem funksioneer (byvoorbeeld Deon Meyer wat in verskeie tale vertaal is en daardeur in verskeie literêre sisteme funksioneer, of Koos Kombuis wat ook in die Afrikaanse musieksisteem funksioneer), ’n groter aantal plasings ontvang het. Nietemin figureer die meeste Afrikaanse skrywers redelik sterk op hierdie lys, met slegs Barend J. Toerien, C.M. van den Heever, Johann Lodewyk Marais, Piet van Rooyen en Tom Gouws wat net ’n enkele plasing elk op Instagram het (nege skrywers het óf geen plasing gehad nie óf die data het te veel ruis bevat, byvoorbeeld John Miles en Chris Barnard). Let ook op die groot aantal ouer Afrikaanse skrywers, soos Langenhoven, Louw, Eybers en F.A. Venter, wat steeds sterk figureer. Omdat hulle nie nuwe werke publiseer nie (slegs heruitgawes), beteken hul posisie op Tabel 1 dat hulle nie vergete skrywers is nie, ten minste op Instagram. Neem ook bogenoemde ouderdomme van Instagram-gebruikers in ag: Alhoewel dit nie hier moontlik is om gebruikers se ouderdomme te bepaal nie, is Instagram, soos reeds genoem, oorwegend ’n platform wat deur jongmense gebruik word, wat dui op die volgehoue krag van hierdie skrywers se reputasies. Baie van hierdie skrywers se werke word steeds op skool en universiteit voorgeskryf, wat beteken dat hulle steeds algemeen bekend is, wat daartoe kan bydra dat hulle op Instagram figureer.

Daar is 314 777 keer aangedui dat gebruikers van ’n plasing hou, met ’n gemiddeld van 43,98 “hou van”-aanduidings per plasing, alhoewel die mees algemene getal “hou van”- aanduidings 11 is (243 of 0,15% van plasings). Die plasing waarvan die meeste mense gehou het, is ’n plasing wat na Koos Kombuis verwys, met 2 865 aanduidings dat gebruikers daarvan gehou het. (Hierdie plasing handel oor Kombuis se musiek; sien Tabel 2 hier onder.) Daar is egter ook 3 555 plasings (49,67% van alle plasings) wat minder as 20 gebruikers aangedui het hulle van hou, 1 676 plasings (23,42% van alle plasings) wat minder as 10 gebruikers aangedui het hulle van hou, en 32 plasings (0,45% van alle plasings) wat geen gebruiker aangedui het dat hulle van hou nie. Trouens, 77,78% van alle plasings (5 567 plasings) het minder as die gemiddelde getal “hou van”-aanduidings verwerf. Alhoewel hier nie spesifiek ondersoek ingestel word na die aard van hierdie verspreiding nie, kom dit voor of gebruikersinteraksies ook beskryf kan word as ’n skewe verspreiding (Senekal 2017), waar ’n klein aantal plasings ’n groot aantal gebruikersinteraksies ontlok, terwyl die meerderheid plasings min reaksies ontvang. Baie min (0,45%) plasings het geen reaksies ontvang nie, wat daarop dui dat ander Instagram-gebruikers gewoonlik betrokke is by hierdie plasings. Tabel 2 dui die 10 gewildste plasings aan, wat almal as bemarkingsplasings geklassifiseer kan word, omdat elkeen van hierdie plasings mense van ’n gebeurtenis bewus maak. Plasings word hier verbatim weergegee.

Tabel 2. Die tien gewildste plasings

 

Plasing

Hou van

1

Karen @karen_zoid jy is ’n absolute legend dankie dat ek op jou show kon wees! As jul gisteraand se episode van Zoid Afrika met my, @hannagrobler en die awesome #KoosKombuis gemis het die herhalings is:
Nou Vrydag om 13:30
Saterdae om 07:30 en 16:30
Sondae om 07:30 en 22:00
Maandae om 10:30
Woensdae om 11:00 op @kyknettv

2 865

2

There is an in depth article on the HANDSKRIF exhibition written by Johan Myburg in Saturday 6 October’s Die Burger newspaper.
#henkserfontein #johanmyburg #antjiekrog #wilmastockenström #linaspies #melaniegrobler #joanhambidge #dianaferrus #jeannegoosen #tuinvandigters #breytenbachsentrum

2 555

3

And Emma is here! Ready for #Jagveld #actionmovie #deonmeyer
Dankie aan @thesenatehairsalon Jeanne-Lett @jeanneletthall vir my amazing kleur en sny en @strands_of_love__ @hollywoodhairpta Pearl 082 438 8509 vir my extensions vir die body 💁🏼

2 414

4

Vanaand is ek, @hannagrobler en #KoosKombuis op #ZoidAfrika @karen_zoid @kyknettv om 20:30 ✌🏻 Ons raak lekker laf! 😜🍷...wat ’n voorreg dankie Karen!!!😉

2 364

5

Thanks Bobby from @bobby_bjmma for getting me fight ready for the film #Jagveld! If you want to learn how to fight or just exercise Ladies and Gents....Check them out! #BecomingEmma #DeonMeyer

2 319

6

HANDSKRIF is currently on show at the Breytenbach Centre in Wellington until 30 October. Open weekdays from 9h00 to 17h00 and Saturdays from 10h00 to 13h00. After hours by appointment. Visit www.breytenbachsentrum.co.za
#henkserfontein #handskrif #breytenbachsentrum #breytenbreytenbach #antjiekrog #dianaferrus #wilmastockenström #melaniegrobler #joanhambidge #linaspies #jeannegoosen #poetry #digkuns #artstudio #gallery #studiovisit #exhibition #contemporaryartist

2 220

7

Good memories Warsaw! 😊
Konferencja serialu 'Cape Town' Warszawa
#capetown #capetownseries #konferencjaprasowa #pressconference #premiera #aktorzy #aktorka #marcindorociński
#boriskodjoe #isoldadychauk #annabaranowska #deonmeyer #peterladkani #annettereeker #tvn #tvnplayer #serial #warszawa #polska

2 212

8

Sien julle nou nou PE #DFMalherbe Hoërskool #GemaklikInJouEieLyf #DeminsAndDiamonds

2 178

9

So many colour options to choose from here at @strands_of_love__ @hollywoodhairpta 💁🏼
Tomorrow I am changing my hair for a new role in the action movie #Jagveld #BecomingEmma #Excited #watchthisspace #DeonMeyer

2 171

10

Dit is die grootste voorreg om die rol van #BartaVanRooyen te kon vertolk in @fielasekindfilm
#transforming #actresslife #filmmaking #FielaSeKind #dalenematthee
#13September #2019

2 081

 

Die taal van byskrifte is ook herken met behulp van Google se Natural Language API (Senekal 2019:81). Byskrifte is in 46 tale geplaas, die meeste daarvan in Engels (2 193 plasings of 30,64% van alle plasings), Afrikaans (2 072 plasings of 28,95% van alle plasings), Ongedefinieerd (1 294 plasings of 18,08% van alle plasings), Nederlands (274 plasings of 3,83% van alle plasings) en Frans (112 plasings of 1,56% van alle plasings). Plasings waar die taal as ongedefinieerd geklassifiseer is, is oorwegend plasings waar die byskrifte geen teks bevat nie maar eerder emotikons of slegs hutsmerkers. Die dominante posisie van Engels kan toegeskryf word daaraan dat verskeie skrywers, byvoorbeeld Deon Meyer, Antjie Krog en Reza de Wet, se werke vertaal is en hulle met ander woorde ook in ander literêre sisteme funksioneer (plasings verwys gereeld na Engelse uitgawes van hierdie skrywers se werke). Dieselfde geld vir die tale waarin minder plasings gemaak is: Vertalings het tot gevolg dat daar plasings gemaak is in onder andere Duits, Sweeds en Pools. Daar is ook advertensies in Tabel 2 wat na Deon Meyer se Jagveld verwys en in Engels geplaas is, terwyl die filmtitel in Afrikaans vermeld word.

Die volgende onderafdeling ondersoek die hutsmerkernetwerk ten einde meer inligting oor hierdie plasings te bekom.

 

5. Die hutsmerkernetwerk

Wanneer hutsmerkers as nodusse aangedui word en ’n skakel tussen hutsmerkers aangedui word indien hulle in dieselfde plasing voorkom, is daar 18 942 nodusse (hutsmerkers) en 75 078 skakels in dié netwerk. Die gemiddelde getal skakels per nodus is 3,96 en die mees algemene graad is 1, gevolg deur 2. Dit beteken dat elke hutsmerker gemiddeld saam met 3,96 ander hutsmerkers geplaas word, maar die mees algemene getal hutsmerkers per plasing is 2 (twee nodusse word benodig vir een skakel). 

Daar is 45 afsonderlik verbinde komponente in dié netwerk en die reusekomponent (die komponent waar alle nodusse verbind is) bestaan uit 18 807 nodusse (99,29% van nodusse). Dit beteken dat 99,29% van hutsmerkers op een of ander wyse verbind is omdat hulle saam met hutsmerkers geplaas is wat ook in ander plasings aangetref word, maar daar is 44 ander komponente wat nie met die res van die netwerk skakel nie. Aangesien die nodusse wat nie met die res van die netwerk skakel nie, hutsmerkers verteenwoordig wat nie gereeld in die datastel voorkom nie, fokus ek op die reusekomponent in die bespreking hier onder.

Dié netwerk is groot en dig verweef en kan daarom nie sinvol in geheel visueel voorgestel word nie. In Figuur 2 kan ’n kleiner komponent egter vir illustrasiedoeleindes gesien word: die hutsmerkernetwerk rondom #npvanwyklouw. Dié netwerk bestaan uit 128 nodusse (hutsmerkers) en 324 skakels.

Figuur 2. Die hutsmerkernetwerk rondom #npvanwyklouw.

’n Paar interessante hutsmerkers kan in Figuur 2 gesien word, insluitend #sutherland, #diehalwekring, #raka, #dertigers, #epiesegedig, #miskien_sal_ons_ook_sterwe, #alleenspraak, #dagboekvannsoldaat en #grense. Hutsmerkers hou volgens die gebruiker verband met sy onderwerp en hier kan ’n hele aantal begrippe gesien word wat volgens gebruikers saamhang met N.P. Van Wyk Louw. Sommige hutsmerkers verwys na Louw se werke (byvoorbeeld #grense, #diehalwekring en #raka), ander daarna dat hy as digter bekendstaan (byvoorbeeld #digters, #poet en #afrikaansegedigte), en ander na verdere begrippe wat met dié skrywer saamhang (byvoorbeeld #internasionalemoedertaaldag en #myland). Figuur 2 dui aan dat ’n hutsmerkernetwerk as ’t ware ’n netwerk van assosiasies is.

Omdat die hele hutsmerkernetwerk so dig verweef is, is dit meer sinvol om die netwerk in gemeenskappe te verdeel met behulp van modulariteit. Daar is 162 gemeenskappe in hierdie netwerk, soos bepaal met behulp van Blondel e.a. (2008) se algoritme. Modulariteit (Q) is bereken op 0,477, wat beteken dat gemeenskappe nie onderling baie sterk verbind is nie. Die grootste gemeenskap (Gemeenskap A) bestaan uit 3 633 nodusse (19,32% van nodusse), gevolg deur Gemeenskap B (18,49% van nodusse), Gemeenskap C (12,17% van nodusse), Gemeenskap D (6,06% van nodusse) en Gemeenskap E (4,27% van nodusse). Die bespreking hier onder fokus op die tien grootste gemeenskappe.

Ten einde slegs die sigbaarste hutsmerkers uit te lig, is die graadsentraliteite van hutsmerkers bereken. Die paragrawe hier onder gebruik telkens die 10 hutsmerkers met die hoogste graadsentraliteite om gemeenskappe te bespreek. Vir die hele netwerk het #deonmeyer die hoogste graadsentraliteit (1 453 skakels), gevolg deur #kooskombuis (1 118 skakels), #ingridjonker (976 skakels), #afrikaans (836 skakels) en #antjiekrog (786 skakels). Dit is egter meer sinvol om hutsmerkers met hoë graadsentraliteite binne gemeenskapsverband te bespreek. 

Die nodusse in Gemeenskap A sluit #ingridjonker, #afrikaans, #antjiekrog, #poetry, #breytenbreytenbach, #gedigte, #digkuns, #andrepbrink, #gedig en #love in. Hierdie gemeenskap sentreer met ander woorde rondom die poësie, met hutsmerkers wat die plasings duidelik binne die digkuns plaas (#digkuns, #poetry, #gedigte en #gedig), asook skrywers soos Breytenbach, Jonker en Krog, wat hoofsaaklik as digters bekendstaan. Neem ook in ag dat 19% van al die nodusse (hutsmerkers) binne hierdie gemeenskap aangetref word en dat dit die grootste gemeenskap is, wat dui op die belangrikheid van die poësie in die gesprek rondom die Afrikaanse literêre kanon op Instagram. Die Afrikaanse poësie is met ander woorde ’n groot komponent van die voortlewing van gekanoniseerde Afrikaanse skrywers op Instagram. Die gewildheid van poësie kan verband hou met die fotoformaat: Dit is makliker om ’n foto van ’n gedig te plaas of om ’n gedig se teks by ’n foto te gebruik as wat dit vir prosa- en dramatekste is, wat gewoonlik langer tekste is. Verdere navorsing sal egter nodig wees om te bepaal watter faktore tot die gewildheid van die poësie op hierdie platform bydra. 

Brink se teenwoordigheid in dié gemeenskap is ’n interessante geval. Daar is sewe plasings in die huidige datastel met die hutsmerker #grootverseboek, maar al sewe verwys na die D.J. Opperman-weergawes (byvoorbeeld Opperman 1951), nie na Brink as samesteller se weergawes nie (byvoorbeeld Brink 2008). Brink word egter sterk met Ingrid Jonker geassosieer en word daarom ook in dié gemeenskap aangetref. Daar is byvoorbeeld plasings wat met sowel #andrepbrink as #ingridjonker gemerk is, soms ook met #vlamindiesneeu. Een plasing, op 6 Januarie 2018 geplaas, lees byvoorbeeld:

“Ek dwing myself om te werk, maar in die stiller oomblikke tussenin is ek met jou besig; onthou ek jou en lê wakker en bly-wees oor jou.” _André P. Brink #vlamindiesneeu #andrepbrink #ingridjonker #briewe #liefde #afrikaans #poësie #woordemaakgesond. 

’n Ander plasing (1 Augustus 2017) lees:

Sagte Swartland reën en ’n verpligting-vrye aand... Verskoon my, ek het ’n kombers-en-stoep afspraak met ’n gebottelde rooikop en twee verliefde skrywers. #vlamindiesneeu #ingridjonker #andrepbrink #afrikaans #rooiwyn #winterplesiertjies #rainequalsredwine #readingtime #winetime #metime.

Figuur 3 dui vier voorbeelde aan van plasings met die hutsmerk #vlamindiesneeu.

Figuur 3. Vier voorbeelde van plasings met die hutsmerk #vlamindiesneeu

Die nodusse in Gemeenskap B sluit in #deonmeyer, #bookstagram, #books, #reading, #book, #bookworm, #fever, #thriller, #read en #booklover. Let daarop dat al hierdie hutsmerkers in Engels is en ook van Meyer se boektitels in Engels insluit: Sy vertalings in Engels is een van die redes hoekom die meeste plasings in die huidige datastel met #deonmeyer gemaak is. Daar is geen ander Afrikaanse skrywers in dié gemeenskap nie, omdat so baie Engelse hutsmerkers saam met sy plasings gebruik is dat dit ’n aparte gemeenskap vorm. Gemeenskap B is egter nie uitsluitlik ’n Engelse gemeenskap nie, aangesien plasings ook in verskeie ander tale oor Meyer gemaak is. Figuur 4 dui vier voorbeelde van Afrikaanse fotoplasings met die hutsmerker #deonmeyer aan.

Figuur 4. Vier voorbeelde van plasings met die hutsmerk #deonmeyer 

Die nodusse in Gemeenskap C sluit in #kooskombuis, #stellenbosch, #music, #liefdebydiedam, #capitalcraft, #parkacoustics, #legend, #karenzoid, #musiek en #musicfestival. Die meerderheid plasings in hierdie groep is advertensies vir konserte en foto’s wat by konserte geneem is. Hierdie gemeenskap is met ander woorde musiekgeoriënteerd en dui aan dat Koos Kombuis hoofsaaklik as musikant bekendstaan, maar daar is ook ’n klein aantal plasings wat met sy lirieke en boeke verband hou. Hierdie gemeenskap dui ook die belangrike rol aan wat die Afrikaanse musiek speel as kontak met die Afrikaanse literêre kanon, en veral Koos Kombuis se rol as brugbouer tussen die Afrikaanse literêre en musieksisteme. Figuur 5 verskaf vier voorbeelde van plasings wat gemaak is met die hutsmerker #kooskombuis. Let op die fiets, wat ’n verwysing is na sy liedjie “Bicycle sonder ’n slot” (hier ’n fiets mét ’n verskeidenheid slotte).

Figuur 5. Vier voorbeelde van plasings met die hutsmerk #kooskombuis 

Die nodusse in Gemeenskap D sluit in #adamsmall, #theatre, #rezadewet, #tbt, #africangothic, #woordfees, #throwback, #kknk, #aardklop en #actor. Hierdie gemeenskap is met ander woorde dramageoriënteerd, met skrywers wat veral bekendheid verwerf het vir hul dramas (De Wet en Small) en kunstefeeste (#woordfees, #kknk en #aardklop). Hierdie gemeenskap lig met ander woorde die belangrike rol uit wat die drama en kunstefeeste speel as ’n kontak met die Afrikaanse literatuur. Figuur 6 verskaf vier voorbeelde van plasings wat met die hutsmerker #rezadewet gemaak is. Die foto links onder is by die Vryfees geneem. Let ook op die foto regs bo: Dit is nie ongewoon vir Instagram-gebruikers om verskeie boeke saam te plaas nie, wat daartoe bydra dat hutsmerkers wat na skrywers verwys, gereeld saam voorkom.

Figuur 6. Vier voorbeelde van plasings met die hutsmerk #rezadewet

Die nodusse in Gemeenskap E sluit in #art, #wilmastockenström, #linaspies, #portrait, #henkserfontein, #breytenbachsentrum, #joanhambidge, #tuinvandigters2019, #breyten en #handskrif. Alhoewel hierdie ook ’n poësiegeoriënteerde gemeenskap is, is dit eerder visueel gefokus en sluit die Handskrif-uitstalling (Van Zyl 2018) en ander skilderye in. Vier voorbeelde van plasings met #wilmastockenström kan in Figuur 7 gesien word.

Figuur 7. Vier voorbeelde van plasings met die hutsmerk #wilmastockenström

Die nodusse in Gemeenskap F sluit in #dalenematthee, #fielasekind, #kringeinnbos, #drama, #knysna, #film, #knysnaforest, #dp, #9kmwalk en #adventure. Hierdie gemeenskap lig Dalene Matthee se bydrae tot die Afrikaanse literatuur uit deur ’n sterk assosiasie met die Knysnabos deur haar bosromans te beklemtoon. Figuur 8 sluit vier voorbeelde van plasings met die hutsmerker #dalenematthee in, onder andere dié wat na die staproete verwys wat na Kringe in ’n bos (Matthee 1984) vernoem is (Ramsay 2012).

Figuur 8. Vier voorbeelde van plasings met die hutsmerk #dalenematthee

Die nodusse in Gemeenskap G sluit in #totius, #photography, #dfmalherbe, #portraitphotography, #nwupukke, #pukke, #blessed, #naglees, #volkswagen en #rugby. Hierdie gemeenskap het ’n duidelike assosiasie met die Potchefstroomkampus van Noordwes-Universiteit en sluit ook foto’s van rugbywedstryde in (“Volkswagen” verwys na ’n kompetisie waarin Hoërskool D.F. Malherbe genoem is). In hierdie gemeenskap is dit met ander woorde veral onderriginstansies waar verwysings na Afrikaanse skrywers aangetref word. ’n Hele aantal plasings handel ook oor ’n hond genaamd Totius, wat dui op ’n heel ander soort voortlewing van die digter se naam as sy tekste en standbeelde van hom. Figuur 9 sluit vier voorbeelde in van plasings wat met #totius gemaak is, insluitend die hond.

Figuur 9. Vier voorbeelde van plasings met die hutsmerk #totius

Die nodusse in Gemeenskap H sluit in #maritavandervyver, #proteaboekhuis, #proteabooks, #karelschoeman, #morning, #leesafrikaans, #meerkatmaantuig, #blog, #boekbekendstelling en #diskouekosskat. Hierdie gemeenskap sluit filmverwerkings van Marita van der Vyver se romans in, maar beklemtoon ook hoe uitgewerye (in hierdie geval Protea) Instagram as bemarkingsplatform gebruik. Figuur 10 sluit vier voorbeelde in van plasings met die hutsmerk #maritavandervyver.

Figuur 10. Vier voorbeelde van plasings met die hutsmerk #maritavendervyver

Die nodusse in Gemeenskap I sluit in #booksofinstagram, #ebenventer, #southafricanliterature, #igreads, #bookhaul, #booklounge, #proudlysa, #uyskrige, #booklaunch en #literaryfiction. Figuur 11 sluit vier voorbeelde in van plasings met die hutsmerk #uyskrige. Let op die alledaagsheid van die skrif bo die besigheid in die foto regs bo. Links bo is nog ’n voorbeeld van ’n foto waar die gebruiker ’n hele paar boeke afgeneem het.

Figuur 11. Vier voorbeelde van plasings met die hutsmerk #uyskrige

Die nodusse in Gemeenskap J sluit in #eugenemarais, #pretoria, #vakansie, #physio, #merrychristmas, #money, #instinct, #20books, #goalsetting2020 en #wilgers. Hierdie gemeenskap dui op Eugène Marais se sigbaarheid deur die hospitaal wat na hom vernoem is (#pretoria, #physio en #wilgers). Een stel plasings verwys na ’n hottentotsgot wat na Eugène Marais vernoem is (’n plasing op 31 Maart 2017 lees: “In South Africa the praying mantis is called #hottentotsgot or God of the Bushmen. Naming him after Eugene Marais was more appropriate than I knew. #animaltotems #southafrica #eugenemarais #soulofthewhiteant”). Figuur 12 sluit vier voorbeelde in van plasings wat met #eugenemarais gemerk is, insluitend die hottentotsgot en die geocaching-plasing wat vroeër in die artikel genoem is.

Figuur 12. Vier voorbeelde van plasings met die hutsmerk #eugenemarais

Bogenoemde voorbeelde dui baie verskillende maniere aan waarop gebruikers met die Afrikaanse literêre kanon in gesprek tree. Wat veral treffend is, is hoe dié skrywers se werke in gebruikers se alledaagse leefwêrelde geposisioneer word: langs ’n koppie koffie (Figuur 12), op ’n kombers langs ’n glas rooiwyn (Figuur 3), op ’n strand met sonbrandroom (Figuur 10), op ’n bed langs ’n kat wat slaap (Figuur 4), dansend op ’n kunstefees (Figuur 6), of met ’n drankie op ’n balkon (Figuur 8). Wat hierdie plasings op Instagram veral uitlig, is dat die Afrikaanse literêre kanon nie alleen in Perspektief en profiel bestaan nie, maar ook in die alledaagse leefwêrelde van lesers. Boonop is dit nie alleen die hedendaagse Afrikaanse skrywers wat so ’n alledaagse posisie inneem nie, maar ook sommige ouer, klassieke skrywers soos Van Wyk Louw en Totius.

 

6. Gevolgtrekking 

Die huidige artikel bied ’n eerste verkenning van Afrikaanse skrywers se teenwoordigheid op Instagram. Daar is aangetoon oor watter skrywers die meeste op dié sosialemediaplatform geplaas word, asook wat geplaas word en selfs hoe plasings saamhang. Deur die hutsmerkernetwerk te onttrek en gemeenskappe daarin te identifiseer, is onder andere aangetoon watter belangrike rol die poësie inneem in die gesprek rondom die Afrikaanse literêre kanon op Instagram, die rol van Koos Kombuis as kontak met die Afrikaanse literatuur, die rol van kunstefeeste, visuele bekendstellingsgeleenthede, ens. 

Die interessantste ontdekking in hierdie ondersoek is dat skrywers nie alleen voortleef deur hul werke nie, en ook nie net deur skole wat na hulle vernoem is of standbeelde wat ter nagedagtenis aan hulle opgerig is nie, maar ook op verrassende wyses: ’n geocaching-bestemming, ’n hottentotsgot, ’n hond, ’n staproete, ’n posseël, ’n kennisgewing by ’n winkel, en so meer. Dít dui daarop dat die Afrikaanse literatuur – en veral ook die ouer skrywers – se reputasies nie slegs in literatuurgeskiedenisse, argiewe en in museums bewaar word nie, maar ook in die alledaagse leefwêreld. Die studie dui met ander woorde daarop dat baie Afrikaanse skrywers buite amptelike instansies en staatsinstellings voortleef, wat goeie nuus is, gegewe die verskuiwing van standbeelde en die druk wat daar op Afrikaans as onderrigtaal bestaan.

Instagram is ’n onontginde platform binne die Afrikaanse literatuurstudie en daar is verskeie verdere ondersoeke wat hieroor onderneem sou kon word. Toekomstige studies sou subsisteme van die Afrikaanse literêre sisteem, byvoorbeeld jeugliteratuur, kon ondersoek, of die Afrikaanse film- of musiekbedryf. Ek het ook plasings oor Afrikaanse films en musiek getoets en hier bestaan ’n groot hoeveelheid materiaal wat bestudeer sou kon word. Verder kan ondersoek ingestel word na individuele skrywers, hul sigbaarheid oor tyd, en verwante hutsmerkernetwerke.

 

Bibliografie 

Anderson, M. en J. Jiang. 2018. Teens, social media en technology 2018. https://www.pewresearch.org/internet/2018/05/31/teens-social-media-technology-2018 (23 Maart 2020 geraadpleeg).

Andujar, A. en F. Çakmak. 2020. Foreign language learning through Instagram: A flipped learning approach. In Kruk en Peterson (reds.) 2020:135–56. 

Aslam, S. 2020. Instagram by the numbers: Stats, demographics en fun facts. https://www.omnicoreagency.com/instagram-statistics (23 Maart 2020 geraadpleeg).

Berens, K. 2019. E-Lit’s #1 Hit: Is Instagram poetry e-literature? Electronic Book Review. https://pdxscholar.library.pdx.edu/eng_fac/40 (23 Maart 2020 geraadpleeg).

Bergström, T. en L. Bäckman. 2013. Marketing and PR in social media. How the utilization of Instagram builds and maintains customer relationships. BA-skripsie, Universiteit van Stockholm.

Bergsund, M.B. 2017. Sosiale strukturers innvirkning på kunnskapsdeling i små grupper. Case melkekubønder på Facebook. MA-verhandeling, Universiteit van Oslo.

Blondel, V.D., J.-L. Guillaume, R. Lambiotte en E. Lefebvre. 2008. Fast unfolding of communities in large networks. Journal of Statistical Mechanics: Theory and Experiment, 10:P1000.

Brink, A.P. 2008. Groot verseboek. Kaapstad: Tafelberg. 

Clement, J. 2020. Instagram user share in South Africa 2019, by age group. https://www.statista.com/statistics/1028334/south-africa-instagram-user-age-distribution (11 Augustus 2020 geraadpleeg).

Duncan, F. 2016. So long social media: The kids are opting out of the online public square. http://theconversation.com/so-long-social-media-the-kids-are-opting-out-of-the-online-public-square-53274 (17 September 2018 geraadpleeg). 

Du Plooy, H. 2014. Die beeld is duursamer as die begrip. LitNet Akademies, 11(2):526–52. https://litnet.co.za/assets//pdf/joernaaluitgawe_11_2/11_2_Du_Plooy.pdf.

Freeman, L.C. 1979. Centrality in social networks conceptual clarification. Social Networks, 1(3):215–39. 

Galloway, F. 1987. Sisteemtendense in die Afrikaanse literatuur: ’n Bestekopname van 1983. Literator, 8(2):1–12. 

Internet Live Stats. 2020. http://www.internetlivestats.com (19 Maart 2020 geraadpleeg).

Kemp, S. 2020. Digital 2020: South Africa. https://datareportal.com/reports/digital-2020-south-africa (11 Augustus 2020 geraadpleeg).

Kleyn, L. 2013. ’n Sisteemteoretiese kartering van die Afrikaanse literatuur vir die tydperk 2000–2009: Kanonisering in die Afrikaanse literatuur. PhD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Kruk, M. en M. Peterson (reds.). 2020. New technological applications for foreign and second language learning and teaching. Hershey: IGI Global. 

Lambiotte, R., J.-C. Delvenne en M. Barahona. 2009. Laplacian dynamics and multiscale modular structure in networks. arXiv preprint. https://arxiv.org/abs/0812.1770 (9 April 2020 geraadpleeg).

Latiff, Z.A. en N.A.S. Safiee. 2015. New business set up for branding strategies on social media – Instagram. Procedia Computer Science, 72:13–23.

Lup, K., L. Trub en L. Rosenthal. 2015. Instagram #Instasad?: Exploring associations among Instagram use, depressive symptoms, negative social comparison, and strangers followed. Cyberpsychology, Behavior and Social Networking, 18(5):247–52. 

Matthee, D. 1984. Kringe in ’n bos. Kaapstad: Tafelberg.

Nienaber, P.J. 1951. Perspektief en profiel: ’n Geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel. 

Nøkleberg, M. 2014. Sammen for sikkerhet? En casestudie av sikkerhetsforvaltningen i Bergen. MA-verhandeling, Universiteit van Bergen. 

Opperman, D.J. 1951. Groot verseboek. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk.

Phua, J., S.V. Jin en J. Kim. 2017. Gratifications of using Facebook, Twitter, Instagram, or Snapchat to follow brands: The moderating effect of social comparison, trust, tie strength, and network homophily on brand identification, brand engagement, brand commitment, and membership intention. Telematics and Informatics, 34:412–24.

Ramsay, S. 2012. Circles in a wild forest: Exploring Knysna’s wilderness. https://www.getaway.co.za/environment/wilderness-knysna (23 Maart 2020 geraadpleeg). 

Senekal, B.A. 2014. Canons and connections. A network theory approach to the study of literary systems with specific reference to Afrikaans poetry. Washington, D.C.: New Academia. 

—. 2015. Die kwantifisering en toepassing van modulariteit in die Afrikaanse filmbedryf (1994–2014) as ’n komplekse netwerk. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskappe en Tegnologie, 34(1):1305.

—. 2017. Die hedendaagse Afrikaanse poësiesisteem: Op soek na die mees verteenwoordigende wiskundige model van die rolspelerverhoudings daarbinne. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(1):168–86.

—. 2019. ’n Sisteemteoretiese ontleding van gebruikersinteraksies rondom Deon Meyer se Twitter-profiel: ’n resepsiestudie in die digitale era. LitNet Akademies Geesteswetenskappe, 16(3):75–102.

Senekal, J.H. 1987. Literatuuropvattings: “Wese” en “waarhede” van ’n nuwe literêre teorie. Bloemfontein: Universiteit van die Oranje-Vrystaat.

Van Coller, H.P. 2004. Is Leroux ’n vergete skrywer? Stilet, 16(1):1–31.

Van Coller, H.P. (red.). 2015. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 1. Pretoria: Van Schaik.

—. 2016a. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 2. Pretoria: Van Schaik. 

—. 2016b. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 3. Pretoria: Van Schaik.

Van Heerden, N. 2017. Misdaadfiksie en die literêre kanon in Afrikaans: ’n Ondersoek na aanleiding van die romans van Deon Meyer. PhD-proefskrif, Universiteit van Pretoria. 

Van Vuuren, H. 2006. Tussen “Grense” en “Groot ode”. ’n Klein essay oor die poësie van N.P. Van Wyk Louw (1906–1970). Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 46(3):279–90.

Van Zyl, M. 2018. Henk Serfontein se nuwe solo-uitstalling, Handskrif: ’n onderhoud. https://www.litnet.co.za/henk-serfontein-se-nuwe-solo-uitstalling-handskrif-n-onderhoud. (23 Maart 2020 geraadpleeg).

Venter, R. 2006. Die materiële produksie van Afrikaanse fiksie (1990–2005): ’n Empiriese ondersoek na die produksieprofiel en uitgeweryprofiel binne die uitgeesisteem. PhD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Viljoen, L. 2008. Digterlike gesprekke met N.P. Van Wyk Louw. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 48(3):267–91.

Wyseur, S. 2011. De evolutie naar non-lineaire complexiteit in digitale mediacultuur; een exploratieve literatuurstudie. MA-verhandeling, Universiteit van Gent.

 

Eindnotas

1 Vir ’n meer wiskundige formulering van modulariteit, kyk Senekal (2015).

2 Senekal (2019) verskaf riglyne oor die etiese gebruik van sosialemedia-data. Die huidige studie vermy die probleme daaraan verbonde om gebruikers se name bekend te maak en gebruik eerder plasings anoniem. 

3 Die gereelde uitdrukking wat gebruik is, is die volgende: =ARRAYFORMULA(LOWER(SPLIT(REGEXREPLACE(Instagram!E2:E, "((^|\s)[^#]\S*)|([^#\w\s]\S*)", "")," "))) waar die teks op die sigblad genaamd Instagram in kolom E is.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post ’n Hond, ’n hottentotsgot en literêre prestige: Instagram as rolspeler in die Afrikaanse literêre sisteem appeared first on LitNet.

Viewing all 796 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>