Quantcast
Channel: LitNet Akademies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 795

Regeringsvorming kragtens die Grondwet sonder ’n volstrekte partypolitieke wenner

$
0
0

Regeringsvorming kragtens die Grondwet sonder ’n volstrekte partypolitieke wenner

Koos Malan en Ilze Grobbelaar-du Plessis, Fakulteit Regsgeleerdheid, Universiteit van Pretoria

LitNet Akademies Jaargang 21(2)
ISSN 1995-5928
https://doi.org/10.56273/1995-5928/2024/j21n2e6

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Ofskoon die Suid-Afrikaanse Grondwet deeglik voorsiening maak vir ’n veelpartydemokrasie, het sterk politieke kragte meegebring dat die land vir die afgelope 30 jaar ’n tipiese eenparty-oorheerste stelsel onder aanvoering van die regerende African National Congress (ANC) was. In die lig hiervan was verkiesingsuitslae voorspelbaar en was regeringsvorming na afloop van verkiesings telkens ’n maklike en voorspelbare oefening. Die politieke klimaat het egter nou so verander dat eenparty-oorheersing waarskynlik verby is. Dit beteken dat die vorming van ’n regering na ’n verkiesing in die toekoms (na die verkiesing van 29 Mei vanjaar inderdaad ook ten dele was) ’n baie komplekse oefening kan wees. (Dit was inderdaad ook ten dele so toe ’n veelparty-regering gevorm is nadat die ANC nie daarin kon slaag om ’n volstrekte meerderheid in die verkiesing te behaal nie.) Gevolglik het die grondwetlike en tersaaklike wetlike bepalings oor die bepaling en aankondiging van die verkiesingsuitslag asook die bepalings wat regeringsvorming daarna reguleer, besonder aktueel geraak. Die vorming van ’n regering na afloop van ’n verkiesing begin met die verkiesing van die president ten tyde van die eerste sitting van die Nasionale Vergadering na die verkiesing. Indien geen party ’n volstrekte meerderheid behaal het nie, sal meer as een party op ’n presidentskandidaat moet ooreenkom. Watter soort meerderheid word vereis vir die verkiesing van die president? Wat gebeur egter as die onderskeie partye nie oor die presidentskandidaat kan ooreenstem nie? Is dit voorts moontlik dat ’n president verkies kan word sonder die ondersteuning van die meerderheid van die lede van die Nasionale Vergadering? Indien wel, wat gebeur daarna? Sal ’n werkbare regering gevorm kan word? Hierdie vrae word bespreek aan die hand van ’n ontledende oorsig van grondwetlike en tersaaklike wetlike bepalings. Dit word verduidelik met behulp van ’n aantal moontlike scenario’s wat ten tyde van die verkiesing van die president sou kon geld.

Trefwoorde: bewindsverlies; eenparty-oorheersing; partypolitieke mededinging; regeringsvorming; veelparty-regering; veelpartydemokrasie; verkiesing van die president; verkiesing; verkiesingsuitslag

 

Abstract

Government transition under the Constitution without an outright party-political victor

Judged by its Constitution the South African state squares with all the essentials of a multiparty democracy. Thus, section 1(d) of the Constitution, part of the founding provision, proclaims the Republic of South Africa a sovereign, democratic state founded on universal adult suffrage, a national common voter’s roll, regular elections and a multi-party system of democratic government, to ensure accountability, responsiveness and openness. This value is fleshed out by a multitude of operational constitutional provisions and supporting legislation.

Nonetheless the South African constitutional order morphed into a system in which a single party, the African National Congress (ANC), distinctively dominates the party-political scene, consistently vanquishing its opposition in successive elections, and dominating the ideological scene with its ideology of transformationism. Arguably the primary reason for the ANC’s enduring dominance is the strength of the factor of racial and cultural identity. Accordingly, South African voters are showing a strong propensity for voting in accordance with their racial and cultural identity, while the ideological and political merits and the quality of governance of the ruling party fail to be the prominent considerations one would expect in a rationally based democratic order.

On close analyses these political forces – the identity factor – have changed the multi-party nature of the constitutional order contemplated by the Constitution, into a one-party dominated system, thus constituting a glaring instance of lapsed or substituted constitutional law resulting in a change of the constitutional order, without the text of the Constitution having been amended – a phenomenon discussed in Malan (2019: ch. 4 and 5).

Since the municipal elections of 2016, and more so the 2021 municipal elections one-party domination in South Africa shows signs of subsiding. The ANC is losing support – a trend stimulated by successive splits in its ranks, the latest the uMkhonto we Sizwe (MK) Party under the leadership of former President Zuma.

In consequence, the formation of a new government following a national election that fails to produce an outright victor might henceforth necessitate coalition governments with all its accompanying political and constitutional complexities. This is the main focus of the present discussion.

However, the Constitution is silent on the formation of a (multiparty) government in the event of a single party failing to secure an outright majority. Hence, conducting coalition negotiations and concluding coalition agreements are purely political matters. Under section 57(2) of the Electoral Act the Electoral Commission – commonly known as the Independent Electoral Commission (IEC) must declare the result of the national election. In the normal course of events that will be within seven days of the election. The newly elected National Assembly (NA) convenes at a time and place determined and presided over by the Chief Justice. During its first siting the new NA must, amongst other things, elect a president in accordance with a process governed by the Constitution.

If negotiations prior to the first sitting of the NA have been successful and the partners to a multiparty government have also agreed to a presidential candidate enjoying the support of the partners that account for an outright majority of members of the NA, that is, at least 201 of its 400 members, the election of the president would most probably be running smoothly, the (majority of the) NA simply formally rubberstamping the agreement of the coalition partners. If only one candidate is nominated, the nominee is declared the elected president. If more than one candidate is nominated, Item 6 of Part A of Schedule 3 of the Constitution provides that the candidate who receives a majority of the votes is declared the elected president.

From reading the phrase in italics above, together with Item 7 of Part A of Schedule 3, it is clear that to be elected the successful candidate is required to receive more votes than his/her opponent (if there is a single opponent), or more than the total of votes of his/her opponents (if more than one opponent have been nominated). However, the successful candidate need not receive the support of the majority of members of the NA. Reasons for this interpretation is explained in detail in the discussion.

If three or more candidates are nominated and none secures an outright majority, the candidate who receives the least votes, is eliminated and another vote taken. Votes are then repeated until one of the candidates receives a majority of the votes and declared the elected president.

The discussion proceeds with reference to seven scenarios, repeatedly also accounting for the interplay between the negotiations (and possible agreements) for the formation of a multiparty government on the one hand, and the result of the consecutive votes for the presidential candidates on the other. The scenarios show, amongst other things, that the voting behaviour of members of minority parties in the NA might materially impact the outcome of the election for the president. This may result from strategic abstentions, or from either in the first or later votes, favouring a presidential candidate of a smaller party against the candidate put up by the ANC. This could even have the effect that such a candidate be elected as president, thus keeping the majority party out of office.

Negotiations for a multiparty government might already be underway and concluded before the first vote in the NA. However, a person not enjoying the support of the majority of members of the NA, might even be elected president without the conclusion of a multiparty agreement. That would precipitate a minority government with all its accompanying vicissitudes and potential governmental instability, including vulnerability to motions of no confidence. A (majority) coalition agreement may, however, also be reached at any later stage, that is, after a minority government has been in office for some time.

The dynamics of the formation of coalition governments applies mutatis mutandis to provincial governments – once again a realistic prospect for contemporary South Africa.

Keywords: election of the president; election result; election; government formation; loss of power of one-party rule; multiparty democracy; multiparty government; one-party rule; party political competition

 

1. Inleiding: van eenparty-oorheersing na skerp partypolitieke mededinging

Volgens die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (die Grondwet) voldoen die huidige Suid-Afrikaanse staat aan die wesensvereistes vir ’n egte veelpartydemokrasie. Dit blyk uit artikel 1 van die Grondwet, meer bepaald artikel 1(d), wat lui:

  1. Die Republiek van Suid-Afrika is een, soewereine, demokratiese staat gegrond op die volgende waardes:
    ...
    (d) Algemene stemreg vir volwassenes, ’n nasionale gemeenskaplike kieserslys, gereelde verkiesings en ’n veelpartystelsel van demokratiese regering, om verantwoordingspligtigheid, ’n responsiewe ingesteldheid en openheid te verseker.

Die hele Grondwet is verskans, maar artikel 1 geniet bowendien besondere grondwetlike beskerming. Ingevolge artikel 74(1) mag dit slegs gewysig word met ’n ondersteunende stem van minstens 75% van lede van die Nasionale Vergadering (NV) en minstens ses van die nege provinsies in die Nasionale Raad van Provinsies (NRvP) wat as provinsiale afvaardigings stem. Artikel 74(1) van die Grondwet is ook strenger verskans. Dit voorkom dat die strenger vereistes van artikel 74(1) opgehef word, en dat die verskanste bepaling (artikel 1) met ’n gewone tweederdemeerderheidsvereiste gewysig kan word.

In talle verdere grondwetlike bepalings en tersaaklike wetgewing word die algemene grondwetlike waarde van artikel 1(d) by wyse van gedetailleerde regte en operasionele bepalings uitgebrei.

Die Handves van Regte maak in artikel 19(3) van die Grondwet vir algemene volwasse stemreg voorsiening en gee uitvoering aan die grondwetlike verbintenis tot verteenwoordigende demokrasie. Dit word verder in artikels 46(1), 105(1) en 157(1) van die Grondwet, asook hoofstuk 2 (artikel 5 tot 16) van die Kieswet van 1998,1 soos gewysig, in werking gestel, wat onder andere in besonderhede vir die byhou van die kieserslys voorsiening maak. Die Kieswet moet voorts saam met die Wet op die Verkiesingskommissie van 1996 gelees word.2 Hierdie wet dra die verantwoordelikheid aan die Verkiesingskommissie op om uitvoering te gee aan grondwetlike en wetlike maatreëls (soos die Kieswet) wat op stemreg, kieserslyste en die hou van gereelde verkiesings betrekking het.

Artikel 19(2) van die Grondwet maak voorsiening vir vrye, regverdige en gereelde verkiesings vir enige wetgewende liggaam wat ingevolge die Grondwet ingestel is. Die NV word kragtens artikel 49(1) vir ’n termyn van vyf jaar verkies. Dit beteken dat gereelde verkiesings elke vyf jaar gehou moet word ten einde verteenwoordigers vir ’n vaste termyn van vyf jaar te verkies.3 Insgelyks maak artikel 108(1) soortgelyke voorsiening dat provinsiale wetgewers vir ’n termyn van vyf jaar verkies word. Volgens artikel 159(1) word ’n Munisipale Raad vir ’n termyn van hoogstens vyf jaar verkies.

Die grondwetlike waarde van ’n veelpartystelsel van demokratiese regering soos in artikel 1(d) genoem, word breedvoerig uitgebrei in grondwetlike bepalings oor die funksionering van die NV en die NRvP, asook die ander sfere van regering.4 Na aanleiding van die 2020-uitspraak van die Konstitusionele Hof in New Nation Movement NPC v President of the Republic of South Africa5 rakende die deelname van onafhanklike kandidate, gevolg deur wysigings aan die Kieswet van 1998 met die Kieswetwysigingswet van 2023,6 kan moontlik aangevoer word dat die demokratiese aard van die grondwetlike bedeling ietwat verder verstewig is.

Wetgewing7 wat voorsiening maak vir staatsfinansiering van sowel politieke partye as beperkings rakende private donasies (die maksimum bedrae van ’n enkele donateur aan ’n politieke party, en die openbaarmaking van donasies) het die deelname van kleiner politieke partye aan verkiesings vergemaklik. Die Wet op Finansiering van Politieke Partye van 2018 het ’n regverdiger bedeling en verdeling van geld aan politieke partye meegebring, wat veelpartydemokrasie bevorder.8 Op grond hiervan kan geredeneer word dat die demokratiese gehalte van die stelsel verder versterk is.

Die wysigings wat kort gelede in die wetsontwerp op Verkiesingsaangeleenthede9 op inisiatief van die African National Congress (ANC) aangebring is, het ten doel om die president groter mag te gee om die formule en regulasies oor die finansiering van politieke partye te bepaal. Die wetsontwerp sal die Wet op Finansiering van Politieke Partye sodanig wysig dat die president regulasies rakende finansiering sonder die goedkeuring van die Parlement kan uitvaardig.10 Wat staatsfinansiering betref, kan dit moontlik groter partye soos die ANC bevoordeel en kleiner partye benadeel, sodat daar aangevoer sal kan word dat die demokratiese gehalte van die stelsel verswak is.

Uit die voorgaande is dit duidelik dat, op grond van die tersaaklike grondwetlike en wetlike bepalings, die Suid-Afrikaanse grondwetlike bestel die toets vir veelpartydemokrasie gemaklik slaag.

Ondanks hierdie grondwetlike voorsiening, het die Suid-Afrikaanse bestel egter sedert 1994 in ’n eenparty-oorheerste demokrasie ontwikkel: slegs een politieke party, naamlik die ANC, het die nasionale politieke toneel beslissend oorheers.11 Eenparty-oorheersing het prominent neerslag gevind in opeenvolgende verkiesings, waarin die ANC sy opposisie beslissend verslaan het. Die persentasie steun wat die ANC in nasionale verkiesings sedert 1994 op hom verenig het, was soos volg:

  • 1994: 62,6%
  • 1999: 66,4%
  • 2004: 69,7%
  • 2009: 65,9%
  • 2014: 62,2%
  • 2019: 57,5%.12

Eenparty-oorheersing het verder ook tot uitdrukking gekom in die feit dat die ANC die nasionale ideologiese agenda beslissend bepaal het: ’n verbintenis tot die omvattende transformasie van die Suid-Afrikaanse grondwetlike bestel.

Met betrekking tot ANC-oorheersing by die stembus het slegs twee provinsies vir uitsonderings gesorg, naamlik die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal, waar die Nasionale Party en die Inkatha Vryheidsparty (IVP) onderskeidelik in die eerste verkiesing (1994) die meerderheid behaal en provinsiale regerings gevorm het.13 In 1999 het die ANC sy posisie in beide hierdie provinsies versterk. Die ANC oorheers sedertdien steeds in KwaZulu-Natal. Die Demokratiese Alliansie (DA) het egter in die verkiesing van 2009 daarin geslaag om ’n volstrekte meerderheid in die Wes-Kaap te behaal14 en vorm sedertdien die provinsiale regering in dié provinsie.

Waarskynlik die belangrikste rede waarom die ANC die politieke toneel in Suid-Afrika oor die afgelope drie dekades kon oorheers, is die kragtige werking van die faktor van rasse- en kulturele identiteit in die Suid-Afrikaanse politiek. Daarvolgens is Suid-Afrikaanse kiesers sterk geneig om volgens hul rasse- en kulturele identiteit te stem, terwyl die ideologiese meriete van politieke partye se standpunte en die regeergehalte van die regerende party nie die belangrike posisie vervul wat ’n mens in ’n rasioneel-demokratiese opset sou verwag nie.

Wat derhalwe gebeur het, is dat die veelparty-aard van die demokrasie wat Suid-Afrika kragtens die Grondwet moes gehad het, deur politieke kragte gekniehalter is. Die gevolg was ’n eenpartydemokrasie wat deur die ANC oorheers is.15 Die verskynsel hier ter sprake is die verandering van die grondwetlike bestel deur politieke kragte, maar sonder dat enige tekswysiging aan die Grondwet self aangebring is.16

As gevolg van die eenparty-oorheersing van die ANC in opeenvolgende verkiesings, was die nasionale verkiesingsuitslae, behalwe vir die fyner besonderhede, grootliks voorspelbaar. Dit het die veelparty-aard van die grondwetlike bestel wat die Grondwet in die vooruitsig gestel het, in ’n beduidende mate weggekalwe. Die grondliggende eienskappe van ’n egte veelpartydemokrasie – die onvoorspelbaarheid van verkiesingsuitslae, die risiko van bewindsverlies van ’n dienende regering en die dienooreenkomstige vooruitsig van regeringsverandering – het vir etlike dekades verdwyn. Daar word trouens soms aangevoer17 dat regeringsverandering in werklikheid ’n vereiste is alvorens ’n stelsel werklik as demokraties kan kwalifiseer.

Die eenparty-oorheersing van die ANC het egter krake begin vertoon, veral in die munisipale verkiesings.18 In 2016 het die ANC beheer oor sekere groot munisipaliteite (Tshwane, Johannesburg en Nelson Mandelabaai) begin verloor en in 2021 het dié party verdere verliese gely. Dit is aangehelp deur etlike versplinterings oftewel skeurings in die ANC, die jongste daarvan die MK-party, wat die ANC verder verswak. Opeenvolgende meningspeilings het ook daarop gedui dat die ANC nie daarin sou slaag om op nasionale vlak ’n volstrekte meerderheid in die 2024-verkiesing te behaal nie – wat toe presies was wat in die verkiesing gebeur het toe die ANC nasionaal slegs 40,2% van die steun kon monster.

In die lig hiervan is die era van eenparty-oorheersing deur die ANC moontlik op ’n einde en het ’n nuwe tydvak aangebreek. Hierdie nuwe politieke tydvak sal gekenmerk word deur die kompleksiteit van regeringsvorming op grond van die samewerking van ’n veelheid van politieke partye. Hierdie bespreking gee vervolgens daaraan aandag.

Aan die hand van ’n ontleding van tersaaklike grondwetlike en wetlike bepalings word in Deel 2 eers die finalisering van die algemene verkiesing en die verklaring van die uitslag behandel. In Deel 3, eweneens op grond van ’n ontleding van relevante grondwetlike en wetlike voorskrifte, word die verkiesing van die president tydens die eerste sitting van die NV na die verkiesing en die verklaring van die verkiesingsuitslag behandel. Dit is die sleutelgebeurtenis in die samestelling van die nuwe regering. Deel 4 motiveer die regsontleding van Deel 3. Deel 5 verwys kortliks na moontlike verdere-onderhandelinge met die oog op ’n veelparty-regering na die verkiesing van die president. Hierdie artikel het aanvanklik beslag gekry toe die verkiesing van 29 Mei nog in die vooruitsig was. Die verkiesing het uiteindelik ’n uitslag opgelewer, waarin die ANC toe inderdaad nie daarin geslaag het om ’n volstrekte meerderheid te behaal nie. Die ANC kon slegs 40,2% van die steun op hom verenig.19 Dit het daarop uitgeloop dat ’n veelparty-regering (algemeen bekend as ’n regering van nasionale eenheid – RNE) gevorm is. Waar vereis, word op die tersaaklike plekke gevolglik ook na hoe die gebeure toe daadwerklik verloop het met betrekking tot die verkiesing van die president en die vorming van die RNE op die tersaaklike plekke uitgelig.

 

2. Grondwetlike bepalings oor regeringsvorming – die verkiesing en die aankondiging van die uitslag

Ooreenkomstig artikel 49(4) van die Grondwet bly die NV wat in die vorige algemene verkiesing (op 8 Mei 2019) verkies is, bevoeg om te funksioneer tot op die dag voor die eerste dag waarop die volgende NV verkies word. Die NV het dus tot op 28 Mei 2024 gefunksioneer, aangesien die nasionale (en provinsiale) verkiesing op 29 Mei 2024 gehou is.20

Volgens artikel 190(1)(c) van die Grondwet moet die Verkiesingskommissie (algemeen bekend as die OVK) die uitslag van die verkiesing bekend maak binne ’n tydperk soos deur nasionale wetgewing voorgeskryf. Dié tydperk moet so gou as redelikerwys moontlik na die verkiesing wees. Artikel 57(2) van die Kieswet vereis dat dit binne sewe dae na die verkiesing moet wees, behalwe vir die spesiale omstandighede soos in die artikel beskryf. In die geval van die (huidige verkiesing) van 29 Mei 2024 was die laaste dag vir die bepaling en bekendmaking van die uitslag dus 5 Junie 2024. Die uitslag mag egter nie voor 21:00 op die tweede dag na die verkiesing bekendgemaak word nie, met ander woorde nie voor 21:00 op 31 Mei 2024 nie. Die uitslag mag ook nie aangekondig word alvorens alle appèlle (behalwe appèlle na die Verkiesingshof teen ’n besluit van die OVK) afgehandel is nie.

Die OVK moet alle besware rakende enige aansoek van die verkiesing en wat wesenlik is vir die finale uitslag wat kragtens artikel 55 van die Kieswet geopper is, afhandel alvorens die uitslag bepaal en verklaar kan word. Die spesiale omstandighede waarna hierbo verwys is, hou verband met ’n scenario kragtens artikel 57(4) van die Kieswet, waarin die OVK nie in staat is om die uitslag van die verkiesing binne sewe dae na die verkiesing te bepaal en te verklaar nie. In daardie geval moet die OVK by die Verkiesingshof om uitstel aansoek doen. Die hof moet dan ’n nuwe tydperk vasstel waarbinne die uitslag bepaal en verklaar moet word. Die Kieswet bepaal in artikel 57(5) egter nie wat hierdie tydperk is nie. Dit kan, afhangende van die erns van die probleme waarmee die OVK te kampe kan hê, ’n lang tydperk wees, wat tot politieke onrus en onstabiliteit kan lei, veral gedurende die spanningsvolle tyd waartydens die uitslag afgewag word. In die normale gang van sake kon ’n mens egter verwag dat die uitslag van die 2024-verkiesing teen 5 Junie 2024 verklaar sou wees. (Die uitslag is inderdaad vroegtydig, naamlik op die aand van 2 Junie 2024 verklaar.)

Artikel 51(1) van die Grondwet bepaal dat die nuutverkose NV na die verkiesing vir sy eerste sitting moet byeenkom op ’n tyd en datum soos deur die Hoofregter bepaal. Dit moet egter nie later as 14 dae wees nadat die uitslag van die verkiesing bekendgemaak is nie. Indien aanvaar word dat die uitslag op 5 Junie 2024 bekendgemaak word, sal die laaste datum vir die eerste sitting van die NV op 19 Junie 2024 wees. Wanneer die tydperk van die vorige (2019-) verkiesing egter as ’n aanduiding geneem word, kan die eerste sitting selfs vroeër wees. Die eerste sitting van die NV was toe op 22 Mei 2019, wat 12 dae na die verkiesing van 10 Mei 2019 was. (Die eerste sitting van die Nasionale Vergadering was toe inderdaad op Vrydag, 7 Junie 2024.)

Volgens hierdie berekening sou die land vir die tydperk vanaf 29 Mei 2024 tot die eerste sitting van die nuutverkose NV op 19 Junie 2024 derhalwe nie ’n NV hê nie. (Dit was toe inderdaad korter want die NV het toe op Vrydag, 7 Junie 2024 vergader.) Hierdie toedrag van sake word egter deur die tersaaklike grondwetlike bepalings in die vooruitsig gestel en hoef nie in ’n ernstige lig beskou te word nie. Gedurende gereelde parlementêre resesse beskik die land per slot van rekening ook nie oor ’n funksionerende NV nie.21 Artikel 94 van die Grondwet bepaal egter dat, na ’n algemene verkiesing, die kabinet, die adjunkpresident, ministers en hul adjunkministers bevoeg bly om te funksioneer totdat die persoon wat deur die nuwe NV as president verkies word die amp aanvaar. Hierdie artikel verseker dat die kabinet bly voortbestaan, totdat die nuutverkose president sy adjunkpresident en ministers aanstel.22

Die 2024-verkiesing, anders as verkiesings sedert 1994, het toe inderdaad nie enige enkele politieke party met ’n volstrekte meerderheid in die NV opgelewer nie. Met 40,2% van die nasionale verkiesingsteun het die ANC nou slegs 159 van die 400 lede in die NV. Daar was toe inderdaad druk onderhandelings met die oog op die vorming van ’n veelparty-regering, wat uiteindelik die sogenaamde regering van nasionale eenheid (RNE) gelei het.

 

3. Die verkiesing van die president

Volgens die Grondwet is die eerste stap in die vorming van ’n nuwe regering die verkiesing van ’n president tydens die eerste sitting van die NV na die verkiesing. Dit gebeur kragtens artikel 86 van die Grondwet en ooreenkomstig die prosedure in Deel A van Bylae 3 tot die Grondwet. Indien die bedoelde onderhandelinge suksesvol is, sou vennote tot ’n veelparty-regering (koalisievennote) op die besonderhede van die nuwe regering, met inbegrip van ’n presidentskandidaat, ooreengekom het. Die voltrekking van suksesvolle onderhandelinge behels dat die vennote gesamentlik oor ’n volstrekte meerderheid van lede in die NV beskik, naamlik oor minstens 201 van altesaam 400 lede. (Dit is toe wat inderdaad gebeur het toe die ANC se presidentskandidaat (Cyril Ramaphosa) vanweë suksesvolle onderhandelings die steun van die Demokratiese Alliansie (DA) en nog etlike ander partye gekry het en Ramaphosa uiteindelik met ’n gemaklike meerderheid – 283 stemme – as president verkies is.)23

Volgens artikel 86(1) moet die NV na die algemene verkiesing uit sy geledere ’n president verkies. Volgens artikel 86(2) moet die Hoofregter, of ’n regter deur hom/haar aangewys, by die verkiesing voorsit en die verkiesing behartig.

Uit hoofde van politieke oorwegings is dit ook denkbaar dat vennote vir ’n veelparty-regering of ’n party wat die verkiesing met ’n volstrekte meerderheid wen, kan besluit om ’n persoon wat nie tot die NV verkies is nie, as kandidaat vir die presidentskap te nomineer. In daardie geval moet sodanige persoon eers in die NV opgeneem word. Dit sal impliseer dat ’n bestaande lid sy of haar posisie as lid van die NV ten gunste van die beoogde presidentskandidaat moet ontruim, waarna daardie persoon as lid van die NV opgeneem sal kan word.24

Dit is belangrik om daarop te let dat die speaker en adjunkspeaker ook tydens die eerste sitting van die NV uit die geledere van die NV verkies word, soos bepaal deur artikel 52(1) van die Grondwet en Reël 14 van die Reëls van die Nasionale Vergadering. (Op grond van die suksesvolle veelparty-onderhandelings is kandidate vir die pos van speaker en adjunkspeaker onderskeidelik vanuit die ANC en die DA) met wye ondersteuning van al die lede van die veelparty-vennote verkies.)25

Nominasies vir die president, speaker en adjunkspeaker moet kragtens die Grondwet skriftelik geskied en geteken word.26 Item 5 van Deel A van Bylae 3 bepaal dat indien slegs een kandidaat genomineer word, hy of sy as verkose verklaar moet word. As meer as een kandidaat genomineer word, word stemme by wyse van geheime stemming (per stembrief) uitgebring. Item 6 van Deel A van Bylae 3 bepaal verder dat indien meer as een kandidaat genomineer word en een van hulle die meerderheid van die stemme kry, hy of sy as die verkose president verklaar moet word.

Die bewoording van item 6(c) van Deel A van Bylae 3 word hier aangehaal aangesien die uitleg daarvan hieronder in meer besonderhede bespreek word. Dit lui soos volg: Indien meer as een kandidaat genomineer word –
...
(c) moet die voorsittende persoon die kandidaat wat ’n meerderheid van die stemme kry, verkies verklaar. (Eie beklemtoning).

Die rede vir die beklemtoning is dat die vertolking van hierdie frase besondere aandag verg en saam met item 7 van Deel A van Bylae 3 gelees moet word. Vanweë die belang van hierdie bepaling word dit hier volledig aangehaal:

(1) Indien geen kandidaat ’n meerderheid van die stemme kry nie, word die kandidaat wat die laagste getal stemme gekry het, uitgeskakel en moet ’n verdere stemming oor die oorblywende kandidate ooreenkomstig item 6 plaasvind. Hierdie prosedure moet herhaal word totdat ’n kandidaat ’n meerderheid van die stemme kry. (Eie beklemtoning).

Dit word soos volg vertolk:

  • As daar slegs een opponent is en ’n kandidaat kry die meerderheid van die stemme in vergelyking met die opponent, word die kandidaat as die verkose president verklaar.
  • As drie of meer kandidate genomineer is en ’n kandidaat kry die meerderheid van die stemme in vergelyking met die gesamentlike aantal stemme van sy opponente, word hy of sy as die verkose president verklaar. Die aantal stemme wat die suksesvolle kandidaat in hierdie geval kry hoef nie van ’n meerderheid van die NV-lede te wees nie (sien Scenario D tot G).

Hierdie vertolking word by wyse van sewe scenario’s verduidelik: item 6(c) is van toepassing op Scenario A tot C, en item 6(c) en item 7 is van toepassing op Scenario D tot G.

In elke scenario word twee of drie kandidate veronderstel, naamlik ’n ANC-kandidaat, ’n Veelpartyhandves-kandidaat en ’n EFF-kandidaat.27 Die Veelparty-handves ’n alliansie van ’n aantal opposisiepartye, wat voor die verkiesing gesluit is), het uiteindelik vanweë die feit dat ’n ooreenkoms vir ’n veelparty-regering gesluit is, nie ’n kandidaat vir die presidentskap gestel nie. Die hipotetiese betrokkenheid van sodanige kandidaat speel egter ’n belangrike rol ter illustrasie van die wyse waarop die president in opeenvolgende stemmings verkies kan word.)

Scenario A – Toepaslike item: 6(c)

Daar is slegs twee kandidate: ’n ANC- en ’n Handves-kandidaat.

Die ANC-kandidaat kry 210 stemme en die Handves-kandidaat 180. Die scenario is eenvoudig. Die ANC-kandidaat het die meerderheid van die stemme behaal (en hoewel dit nie vereis word nie, ook die steun van die meerderheid NV-lede) en word derhalwe as die verkose president verklaar.

Tien lede het nie gestem nie – die verskil tussen die totale getal van 400 NV-lede en die getal stemme (390) wat op die twee kandidate uitgebring is.

Scenario B – Toepaslike item: 6(c)

Daar is slegs twee kandidate: ’n ANC- en ’n Handves-kandidaat.

Die ANC-kandidaat kry 195 stemme en die Handves-kandidaat 185. Die ANC-kandidaat het die meerderheid van die stemme gekry en word derhalwe as die verkose president verklaar. Die ANC-kandidaat het weliswaar nie ’n meerderheid van NV-lede se stemme gekry nie, maar dit maak nie saak nie, want dit word nie vereis nie. Al wat item 6 van Deel A van Bylae 3 vereis is dat die wenner die meerderheid van die stemme moet ontvang.

Twintig lede het nie gestem nie – die verskil tussen die totale getal van 400 NV-lede en die totale getal stemme (380) wat op die twee kandidate uitgebring is.

Hierdie is tipies die scenario waar die suksesvolle kandidaat se party (nog) nie ’n veelparty-reëling met die oog op ’n regering kon vorm nie en ’n meerderheid van die NV-lede gevolglik nie vir hom of haar gestem het nie.

Scenario C – Toepaslike item: 6(c)

Daar is drie kandidate: ’n ANC-kandidaat, ’n Handves-kandidaat en ’n EFF-kandidaat.

Die ANC-kandidaat kry 190 stemme, die Handves-kandidaat 130 die EFF-kandidaat 50. Die ANC-kandidaat het meer stemme as die Handves- en die EFF-kandidaat saam, naamlik 180 stemme. Dit is al wat deur item 6 vereis word: ’n meerderheid van die uitgebragte stemme.

Dertig lede het nie gestem nie – die verskil tussen die totale getal van 400 NV-lede en die totale getal stemme (370) wat op die drie kandidate uitgebring is.

Soos in scenario B, is dit tipies ’n scenario waar die suksesvolle kandidaat se party (nog) nie ’n op samewerking kon ooreen kon kom nie. Die meerderheid van die NV-lede het gevolglik nie vir hom of haar gestem nie.

In hierdie scenario is dit nie nodig om die EFF-kandidaat, wat die minste stemme gekry het, ooreenkomstig item 7 van Deel A van Bylae 3 uit te skakel en ’n volgende stemming te hou nie. ’n Volgende stemming word slegs genoodsaak wanneer die kandidaat wat die meeste stemme gekry het, nie meer stemme gekry het as die twee onsuksesvolle kandidate (die Handves-kandidaat en die EFF-kandidaat) se stemme saam nie (kyk Scenario D tot G).

Scenario D – Toepaslike items: 6(c) en 7(1)

Daar is drie kandidate: ’n ANC-kandidaat, ’n Handves-kandidaat en ’n EFF-kandidaat.

Die ANC-kandidaat kry 190 stemme, die Handves-kandidaat 140 en die EFF-kandidaat 60. Hoewel die ANC-kandidaat die meeste stemme gekry het (190), het hy of sy nie die meerderheid van die stemme gekry nie, dit wil sê, nie meer stemme as die Handves- en die EFF-kandidaat se stemme saam nie (140 + 60 = 200 stemme).

Tien lede het nie gestem nie – die verskil tussen die totale getal van 400 NV-lede en die totale getal stemme (390) wat op die drie kandidate uitgebring is.

Item 7 van Deel A van Bylae 3 bepaal dat, indien geen kandidaat ’n meerderheid van die stemme behaal het nie, word die kandidaat wat die minste stemme gekry het uitgeskakel. Dan moet ’n verdere stemming tussen die oorblywende kandidate gehou word. Hierdie prosedure moet herhaal word totdat een van die kandidate ’n meerderheid van die stemme behaal.

Kragtens item 7 moet die EFF-kandidaat dus uitgeskakel word.

Hierdie scenario is ook tipies een waar ’n partye (nog) nie op die vorming van ’n meerderheidsregering kon ooreenkom nie.

Scenario E – Toepaslike items: 6(c) en 7(1)

Daar is drie kandidate: ’n ANC-kandidaat, ’n Handves-kandidaat en ’n EFF-kandidaat.

Soos in Scenario D, kry die ANC-kandidaat 190 stemme, die Handves-kandidaat 140 en die EFF-kandidaat 60.

Die EFF-kandidaat, wat die minste stemme gekry het, word kragtens item 7 uitgeskakel.

Die finale stemming verloop soos volg: die ANC-kandidaat kry 195 stemme en die Handves-kandidaat 175.

Die ANC-kandidaat (wat nou vyf stemme meer gekry het as in die eerste stemming) word as die president verkies, aangesien hy of sy die meerderheid stemme gekry het. Die ANC-kandidaat het egter nie die meerderheid van die NV-lede se ondersteuning nie, maar dit word nie vereis nie.

Soos Scenario D, is hierdie scenario ook tipies een waar ’n koalisie met die oog op ’n meerderheidsregering (nog) nie gevorm is nie.

Scenario F Toepaslike items: 6(c) en 7(1)

Daar is drie kandidate: ’n ANC-kandidaat, ’n Handves-kandidaat en ’n EFF-kandidaat.

Soos in Scenario D, kry die ANC-kandidaat 190 stemme, die Handves-kandidaat 140 en die EFF-kandidaat 60.

Die EFF-kandidaat, wat die minste stemme gekry het, word kragtens item 7 uitgeskakel.

Die finale stemming verloop soos volg: die Handves-kandidaat kry 192 stemme en die ANC-kandidaat 190. Die Handves-kandidaat het nou meer stemme as die ANC-kandidaat gekry en word as president verkies.

Dit gebeur danksy die feit dat NV-lede wat nie lede van een van die Handves-partye is nie, in die tweede stemming vir die Handves-kandidaat gestem het.

Scenario G – Toepaslike items: 6(c) en 7(1)

Daar is drie kandidate: ’n ANC-kandidaat, ’n Handves-kandidaat en ’n EFF-kandidaat.

Die ANC-kandidaat kry 190 stemme, die Handves-kandidaat 140 en die EFF-kandidaat 48.

Twee en twintig lede het nie gestem nie – die verskil tussen die totale getal van 400 NV-lede en die totale getal stemme (378) wat op die drie kandidate uitgebring is.

In hierdie scenario is die ANC-kandidaat as president verkies omdat hy of sy ’n meerderheid van die stemme (190) behaal het teenoor die totaal van die twee ander kandidate se stemme (140 + 48 = 188).

 

4. Redes vir die vertolking van “meerderheid van die stemme”

In hierdie afdeling van die bespreking word verduidelik waarom die frase “... meerderheid van die stemme ...” in item 6(c) en item 7(1) van Deel A van Bylae 3 van die Grondwet volgens die sewe scenario’s uitgelê is. Meer bepaald word twee vrae beantwoord met betrekking tot die vertolking van die scenario’s hierbo gevra:

  1. Waarom word “... meerderheid van die stemme ...” nie vertolk as “meerderheid van die lede van die NV” nie?
  2. Waarom word “... meerderheid van die stemme ...” uitgelê as meer stemme as die totaal van die stemme van al die onsuksesvolle kandidate saam (’n volstrekte meerderheid), en nie bloot meer stemme as die kandidaat wat die tweede meeste stemme gekry het nie?

4.1 Nie ’n meerderheid van lede van die NV nie

Eerstens staan die bewoording “meerderheid van die stemme” in items 6(c) en 7(1) van Deel A van Bylae 3 van die Grondwet teenoor ander bepalings van die Grondwet, wat ook met die behaal van meerderhede te doen het. Veral ter sake is artikel 102 van die Grondwet wat betrekking het op die aanvaarding van mosies van wantroue in die kabinet (artikel 102(1)) of in die president (artikel 102(2)). In hierdie bepalings word voorsiening gemaak vir die aanneem van die mosies as “... ’n meerderheid van sy lede...” ten gunste daarvan is, naamlik ’n meerderheid van lede van die NV wat die mosies ondersteun. Dit is dus nie bloot ’n meerderheid van die stemme soos by die verkiesing van die president nie. In die gevalle van artikel 102 word derhalwe ’n 50%+1 meerderheid, oftewel die ondersteuning van minstens 201 van die lede van die NV vereis. In die bewoording van items 6(c) en 7(1) is daar geen aanduiding dat die strenger vereiste van die aard van artikel 102 – naamlik die ondersteuning van die meerderheid van die NV-lede – vereis word nie.

Daar is nog ’n verdere argument. Indien die frase “meerderheid van die stemme ...” in items 6(c) en 7(1) uitgelê word as “meerderheid van die lede van die NV” (dit wil sê, om as president verkies te word, word die stemme van ’n 50%+1 meerderheid (201 lede) van die NV vereis), sou dit vir ’n (klein) blok van lede wat buite stemming bly, moontlik wees om te verhoed dat ’n kandidaat wat die meerderheid van die stemme gekry het, as president verkies word. (Die 58 lede van die uMkhonto we Sizwe-party het juis vanjaar gedurende die eerste sitting van die NV waartydens die president verkies is, nie vir die verrigtinge opgedaag nie.28 ’n Situasie van hierdie aard waar ’n aantal lede buite stemming bly, of nie opdaag nie, blyk dus allermins baie onwaarskynlike te wees.)

Gestel in die laaste stemming het kandidaat A 199 stemme gekry en kandidaat B 191. Altesaam 390 lede het dus gestem en tien lede nie. Indien daar vereis word dat die wenkandidaat (wat 199 stemme gekry het) ’n meerderheid van die NV-lede se ondersteuning moet hê om president te word, kan die klein minderheid wat nie gestem het nie, verhoed dat kandidaat A president word.

Dit sou ’n volskaalse grondwetlike krisis ontketen, want sonder ’n president kan die nasionale uitvoerende gesag nie gevorm word nie: kragtens artikel 91 van die Grondwet is slegs die president grondwetlik bevoeg om ’n adjunkpresident en ministers aan te stel.

4.2 Maar wel meer stemme as die totaal van die onsuksesvolle kandidate

Waarom beteken ’n “... meerderheid van die stemme ...” meer stemme as die gesamentlike totaal wat die onsuksesvolle kandidate behaal het, in plaas van bloot meer stemme as die kandidaat wat die tweede meeste stemme gekry het?

Indien die reël sou wees dat die kandidaat wat in die eerste stemming die meeste stemme kry (nie noodwendig meer as die totaal van die ander kandidate saam nie) sou die uitskakelingsprosedure van item 7(1) van Deel A van Bylae 3 oorbodig wees. Indien die frase “... meerderheid van die stemme...” in item 6 derhalwe gelees sou word dat die kandidaat wat die meeste stemme in die eerste stemming kry (maar nie meer as die totaal van die ander kandidate saam nie), sou dit beteken dat item 6 vertolk word asof item 7 nie bestaan nie. Dit is uiteraard ontoelaatbaar. Bepalings mag nooit so gelees word dat dit ander bepalings (in dieselfde regsinstrument) kragteloos maak nie. Dit is bloot ’n kwessie van elementêre sistematiese uitleg dat wetgewing (of die Grondwet) nie enige kragtelose of doellose bepalings bevat nie en derhalwe ook nie vertolk moet word asof dit sodanige bepalings bevat nie.29

 

5. Na die verkiesing van die president – moontlike -onderhandelinge vir die vorming van ’n regering

Indien geen party daarin slaag om ’n volstrekte meerderheid in die algemene verkiesing vir die NV te behaal nie, sal politieke partye moet onderhandel met die oog op die vorming van ’n veelparty-regering. Dit is wyd voorsien met betrekking tot die verkiesing van 29 Mei 2024. Die vorming van ’n regering begin formeel met die verkiesing van die president. Hy of sy is verantwoordelik vir die aanwysing van die kabinet. Die eerste oogmerk van onderhandelinge is dus om op ’n presidentskandidaat ooreen te kom wat die steun van die meerderheid van lede van die NV geniet. Vanuit die staanspoor, dit wil sê, vanaf die verkiesing van die president, word daar dus ’n meerderheidskoalisieregering gevorm, met ander woorde ’n koalisieregering wat die steun van meer as 50% van die NV-lede geniet. So ’n koalisie-ooreenkoms sal vanselfsprekend ook ooreenstemming onder die koalisievennote oor die vul van kabinetsposte insluit. Indien die koalisie-onderhandelinge nog voor die verkiesing van die president beklink word, sal dit scenario’s soos Scenario B tot G verhoed. Dit sal ook verseker dat die kandidaat ’n meerderheid van die stemme gekry het, en ook deur die meerderheid van die NV-lede ondersteun word. (Dit is trouens juis wat na die verkiesing van 29 Mei 2024 gebeur het, toe daar inderdaad op die verkiesing van die president en die breedweg op die toedeling van kabinetsposte ooreengekom is.30

Soos die scenario’s egter toon, kan ’n persoon met ’n meerderheid van die stemme verkies word sonder dat hy of sy ook die meerderheid NV-lede se steun geniet. In daardie geval sal verdere dringende onderhandelinge met die oog op ’n meerderheidskoalisie volg. Dit sal ongetwyfeld oor beleid en die vul van kabinetsposte handel. As die onderhandelinge nie slaag nie, sal ’n minderheidsregering gevorm word. Dit behels ’n regering waar die president en die kabinet nie die ondersteuning van die meerderheid van die lede van die NV geniet nie. Grondwetlik is daar niks wat dit verhoed nie. Nogtans sal sodanige regering egter kwesbaar wees om vanweë mosies van wantroue in duie te stort.

Artikel 102 van die Grondwet, wat oor mosies van wantroue handel (in die kabinet met uitsluiting van die president in artikel 102(1), of slegs in die president in artikel 102(2)), vereis die ondersteuning van ’n meerderheid van lede van die NV, met ander woorde minstens 50%+1 oftewel 201 lede van die NV. Hierdie bepalings bied ’n minimum vlak van beskerming aan ’n dienende regering en maak voorsiening vir ’n minimum vlak van grondwetlike stabiliteit, aangesien ’n meerderheid van die stemme, in teenstelling met ’n meerderheid van die lede van die NV, nie voldoende is om ’n mosie van wantroue deur te voer nie. Dit is dus makliker om ’n president verkies te kry en ’n regering te vorm (met ’n meerderheid van die stemme) as om die regering met ’n mosie van wantroue (met die ondersteuning van die meerderheid van die NV-lede) tot ’n val te bring.

 

6. Afsluiting

Ter afsluiting word genoem dat die beginsels en prosedures wat geld vir die verkiesing van provinsiale premiers en die vorming van provinsiale regerings soortgelyk is aan die verkiesing van die president en die vorming van die nasionale regering. Dit word onder andere deur artikels 128 en 132 van die Grondwet bepaal.

 

Bibliografie

A Multi-Party Charter to Rescue South Africa. 2023. https://www.da.org.za/rescue-sa (8 Maart 2024 geraadpleeg).

ANC statistics. 2024. https://www.statista.com/statistics/1402238/anc-general-election-results-in-south-africa (23 Maart 2024 geraadpleeg).

Election resources. 2009. http://electionresources.org/za/provinces.php?election=2009&province=WC (18 Maart 2024 geraadpleeg).

Giliomee, H. en C. Simkins (reds.). 1999. The awkward embrace: One party-domination and democracy. Kaapstad: Tafelberg.

IEC Results Dashboard. 2024. https://results.elections.org.za/dashboards/npe/app/dashboard.html (23 Maart 2024 geraadpleeg).

Malan, K. 2005. Political blitz on a constitutional trench. SA Publiekreg/Public Law, 20:397–411.

—. 2019. There is no supreme constitution – a critique of statist-individualist constitutionalism. Stellenbosch: African SUN Media.

1994 National and Provincial Elections. 1994. https://www.elections.org.za/content/uploadedfiles/NPE%201994.pdf (18 Maart 2024 geraadpleeg).

Parlement van die Republiek van Suid-Afrika. 2024. Persverklaring. https://www.parliament.gov.za/press-releases/national-assembly-elects-ms-thoko-didiza-na-speaker-and-dr-annelie-lotriet-deputy-speaker (10 Julie 2024).

Przeworski, A. en F. Limongi. 1997. Modernisation: theories and facts. World Politics, 49:155–83.

Wysigingswetsontwerp op Verkiesingsaangeleenthede – Oproep om openbare voorleggings en kommentaar. 2023. https://www.parliament.gov.za/storage/app/media/CommitteeNotices/2023/10-december/13-12-2023/Electoral_Amendment_Bill/Afrikaans_Advert_on_the_Electoral_Amendment_Bill_B42-2023.pdf (23 Maart 2024 geraadpleeg).

 

Eindnotas

1 Wet 73 van 1998.

2 Wet 51 van 1996.

3 Artt. 1(d), 19(2) en 46(1) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (die Grondwet).

4 Artt. 19(1), 46(1), 60(2), 61(2), 61(3), 105(1) en 157 van die Grondwet en art. 26 van die Kieswet 73 van 1998.

5 2020 6 SA 257; 2020 8 BCLR 950 (KH).

6 Wet 1 van 2023.

7 Wet op Finansiering van Politieke Partye 6 van 2018.

8 Die Political Party Funding Act 6 of 2018 stig kragtens art. 3 ’n veelpartydemokrasiefonds met die doel om verteenwoordigende politieke partye uit private bron(ne) te finansier. Die fonds verdeel geld gelykop tussen alle partye wat in die wetgewers verteenwoordig is. Art. 6 van die wet bepaal die formule van toekenning uit die fonds aan ’n verteenwoordigende politieke party.

9 B 42 – 2023 Electoral Matters Amendment Bill. Kl. 29 van die Wysigingswetsontwerp op Verkiesingsaangeleenthede verhoog die proporsionaliteit van die partyfinansieringstoekenning van 66,6% tot 90% en verlaag die billike toekenning van 33,3% tot 10%.

10 Kl. 29 van die Wysigingswetsontwerp op Verkiesingsaangeleenthede het verder ten doel om die president groter mag te gee om die formules en regulasies oor die finansiering van politieke partye te bepaal (Wysigingswetsontwerp op Verkiesingsaangeleenthede [B 42 – 2023]: Oproep om openbare voorleggings en kommentaar, 2023).

11 Die verskynsel van eenparty-oorheersing word breedvoerig deur Giliomee en Simkins (1999) bespreek.

12 IEC Results Dashboard (2024) en ANC statistics (2024).

13 IEC Results Dashboard (2024) en 1994 National and Provincial Elections (1994).

14 Election resources (2009).

15 Vgl. hieroor bv. Malan (2005:397–411).

16 Vgl. hieroor bv. Malan (2019:65–130). Wat hier ter sake is, is inderdaad die verandering van die (daadwerklike) konstitusie terwyl die geskrewe Grondwet ongewysig bly.

17 Vgl. Przeworski en Limongi (1997:155–83).

18 IEC Results Dashboard (2024).

19 IEC Results Dashboard (2024) en ANC statistics (2024).

20 Die verkiesing is kragtens art. 49(2) van die Grondwet, saamgelees met art. 17 van die Kieswet, op 20 Februarie 2024 deur die President geproklameer.

21 Die NV verrig bepaalde funksies wat in art. 42(3) van die Grondwet uiteengesit word, en het ook bepaalde bevoegdhede wat in art. 55 van die Grondwet uiteengesit word.

22 Art. 91 van die Grondwet.

23 Die presidentsverkiesing het op Vrydag 14 Junie 2024 in die NV plaasgevind. Persverklaring op die webwerf van die Parlement van die Republiek van Suid-Afrika by https://www.parliament.gov.za/press-releases/national-assembly-elects-cyril-ramaphosa-president-elect (geraadpleeg op 10 Julie 2024).

24 Reëls 13 en 15 van die Reëls van die Nasionale Vergadering en art. 86(1) van die Grondwet.

25 Die speaker en adjunk-speaker is op 14 Junie 2024 in die NV verkies. Persverklaring op die webwerf van die Parlement van die Republiek van Suid-Afrika by https://www.parliament.gov.za/press-releases/national-assembly-elects-ms-thoko-didiza-na-speaker-and-dr-annelie-lotriet-deputy-speaker (geraadpleeg op 10 Julie 2024).

26 Items 2 en 3 van Deel A van Bylae 3 van die Grondwet.

27 Die Veelpartyhandves is in 2023 deur ’n aantal opposisiepartye tot stand gebring (sien A Multi-Party Charter to Rescue South Africa, 2023).

28 Persverklaring op die webwerf van die Parlement van die Republiek van Suid-Afrika by https://www.parliament.gov.za/press-releases/statement-mk-partys-challenge-election-results-and-boycott-first-sitting (geraadpleeg op 10 Julie 2024).

29 Vgl. Esselman v Administrateur SWA 1974 2 SA 597 (SWA) 599.

30 Die ooreenkoms is beskikbaar op https://lib.uct.ac.za/government-publications/articles/2024-06-18-statement-intent-2024-government-national-unity (op 10 Julie 2024 geraadpleeg).

 

  • Hierdie artikel se fokusprent is geskep deur Leejoann en is verkry op Pixabay.

 

LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHET) en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys van goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of approved journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel en kan kwalifiseer vir subsidie deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding.

The post Regeringsvorming kragtens die Grondwet sonder ’n volstrekte partypolitieke wenner first appeared on LitNet.

The post Regeringsvorming kragtens die Grondwet sonder ’n volstrekte partypolitieke wenner appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 795

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>