Quantcast
Channel: LitNet Akademies - LitNet
Viewing all 796 articles
Browse latest View live

Die teenwerking van leerderuitdagings in ’n plattelandse skool: aspirasionele kapitaal as navigasiemiddel

$
0
0

Die teenwerking van leerderuitdagings in ’n plattelandse skool: aspirasionele kapitaal as navigasiemiddel

Emma Groenewald, Skool van Opvoedkundige Studies, Universiteit van Sol Plaatje

LitNet Akademies Jaargang 18(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Hierdie artikel fokus op die wyse waarop twee leerders in ’n plattelandse skool aspirasionele kapitaal benut om uitdagings te bowe te kom en akademiese sukses te verseker. In die oorbrugging van die gaping tussen die gemeenskapsruimte en die skoolruimte maak leerders van verskeie vorme van kapitaal gebruik om suksesvolle navigasie in die nuwe ruimte te verseker. Aspirasionele kapitaal word verkry deur individuele ervaringe binne spesifieke kontekste. Hierdie veerkragtigheid stel leerders in staat om doelwitte te bereik te midde van uitdagings. Die studie word gerig deur die sentrale navorsingsvraag: Hoe benut leerders aspirasionele kapitaal om leerderuitdagings teen te werk en akademiese sukses te verseker? Twee leerders, ’n Xhosa-seun en ’n Nama-meisie, is as deelnemers vir die studie gekies. Met behulp van semigestruktureerde onderhoude is data ingesamel. ’n Sosiaal-konstruktivistiese paradigma en ’n narratiewe benadering is gevolg om die deelnemers se unieke ervaringe vas te vang. Die data is ontleed deur Appadurai (2004) se teorie van die vermoë om te strewe, Yosso (2005) se model van die kulturele rykdom van gemeenskappe en Somers (1994) se teorie van narratiewe identiteitsteorie as teoretiese lense te gebruik. Die data word aangebied onder die volgende drie temas: die leerders se gemeenskapsnarratiewe wat fokus op hul persoonlike aspirasionele ervaringe; hul skoolnarratiewe wat verbind word met aspirasies binne die skoolkonteks; en navigasie met behulp van aspirasionele kapitaal. Die ontleding van die narratiewe dui aan dat leerders met die vermoë om te strewe hulpbronne wel suksesvol benut om ’n kultuur van moontlikhede te laat ontvou en as agente vir verandering op te tree.

Trefwoorde: agentskap; aspirasionele kapitaal; leerderuitdagings; navigasie; plattelandse skool; aspirasies

 

Abstract

Combatting learner challenges in a rural school: aspirational capital as navigation tool

This article discusses how two learners in a rural school use aspirational capital to overcome challenges and ensure academic success. In bridging the gap between the community context and the school context, learners use different forms of capital to ensure successful navigation in the new context. Aspirational capital is obtained through individual experiences in specific contexts. As a form of resilience, aspirational capital assists learners in dreaming about possibilities beyond their present circumstances, often without the means to reach their goals.

This article is derived from a dissertation (Groenewald 2012) that explored the subjectivity of learners in a rural mining school environment in the Northern Cape province. The study was driven by the central research question: How do learners use aspirational capital to overcome challenges and ensure academic success? To answer the research question, the study was conducted according to a social-constructivist paradigm that recognises social reality in individual experience and the construction of knowledge.

One male Xhosa learner and one female Nama learner were selected as participants for the study. The two learners had to endure many challenges; they had to travel long distances to school, came from broken families and experienced a shortage of resources and entertainment in their communities. Moreover, their culture – Nama and Xhosa respectively – was in the subdominant position at school. Data were generated through four semi-structured interviews. The first interview was used as a point of departure and focused on the participants’ biographical backgrounds. The subsequent interviews explored their narratives in the contexts of their community and school. The final interview centred on navigation and negotiation in changing contexts. The narrative methodology was employed, which involved the telling, retelling and analysis of the participants’ stories. The stories focused on what was told by the participants, while the narratives focused more on how the participants told their stories. The narratives gave insight into how the participants used aspirational capital in the navigation of the new contexts.

The data were analysed using Appadurai’s (2004) theory of the capacity to aspire, Yosso’s (2005) cultural wealth of communities model and Somer’s (1994) narrative identity theory as theoretical lenses. An overview of the concept aspiration served as the foundation for the theoretical framework. Aspirations should be understood through the theory of the capacity to aspire, within the context of interaction and social life. When exploring the possibilities of interaction and the social context, aspirations can be seen as both a cultural and a navigational tool. They focus on material needs and non-material hopes and dreams, as well as the values and norms deriving from these. Appadurai (2004) illustrates that the distribution of the capacity to aspire depends on social, cultural and economic resources. Consequently, poor people, with limited opportunities to utilise the capacity to aspire, have limited aspirations.

Yosso’s (2005) cultural wealth of communities model focuses on the knowledge, skills, abilities and networks of communities that enable people to survive despite oppression and marginalisation. The model recognises learners’ embedded individual cultural wealth, which, in turn, shapes their aspirational capital and assists them in navigating new contexts. Learners’ community and family resources shape their aspirations to combat challenges and ensure educational success. Aspirational capital, a form of community wealth, is the ability to stay goal-orientated despite challenging conditions. Aspirational capital or positive self-image is linked to a critical consciousness of how communities operate. Somer’s (1994) narrative identity theory differentiates between ontological and public narratives. Ontological narratives are personal stories that bring meaning to an individual’s life. The participants’ ontological narratives illustrated their ability to use aspirational capital to navigate challenging conditions in their community. Public narratives are linked with institutions such as the church, workplace and school. The institutional narratives also highlighted the participants’ capacity to aspire, using aspirational capital to rise above challenges at school.

The data are presented in three themes. The first theme – learners’ community narratives – focuses on experiences in the participants’ communities. The narratives showed that a lack of family support hampered their capacity to aspire. The participants used their imagination and cultural activities to shift their focus from the present difficult conditions to future possibilities. Positive influences, such as family support, friends, religion and tradition, assisted the learners in using aspiration as a navigation and cultural tool to rise above their immediate challenges. The second theme – learners’ school narratives – is linked to the learners’ aspirations in the school context. With limited economic resources, learners can rely on social and cultural resources while navigating the school context. The third theme is navigation through aspirational capital. A positive attitude and self-image, work ethics and support from teachers and friends can serve as navigational tools to combat challenges and ensure academic success.

The final section is a discussion of how the learners used aspirational capital to navigate the school context. Values and norms lay the foundation for aspirations. Individuals with a positive attitude and thorough knowledge of what is important can stay goal-orientated amid challenges. Non-material resources, such as values, norms and traditions, can assist learners in developing aspirations. Agents for change depend on aspirational capital to create an action plan for the unfolding future.

This article illustrates that learners with the capacity to aspire will use their resources successfully to unfold a culture of possibilities and act as agents of change. Learners without the necessary resources can depend on social (friends and teachers) and cultural (tradition and values) resources to combat challenges and ensure academic success. If learners know themselves and their communities, they can identify and use the necessary resources. It can be argued that these skills, abilities and knowledge can assist learners to hope and dream for a better future amid various challenges. Further research could use participants from different ethnic backgrounds to ensure the validity of the study.

Keywords: agency; aspiration; aspirational capital; learner challenges; navigation; rural school

 

1. Inleiding

Skole in landelike gebiede ervaar vele uitdagings, soos ’n tekort aan klaskamers, swak toegang tot dienste en onvoldoende biblioteekdienste. Voorts het armoede en swak sosio-ekonomiese omstandighede in landelike gebiede ’n negatiewe uitwerking op leerders se akademiese prestasie (Du Plessis en Mestry 2019). In ’n verslag oor landelike onderwys verwys Mandela (in Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing 2005:vi) na die onbenutte potensiaal van landelike gemeenskappe. Moletsane (2012) beklemtoon dat die hulpbronne en sterkpunte van landelike gemeenskappe ontgin moet word.

Die Departement van Onderwys (2015) se aksieplan het verskeie inisiatiewe uitgewys om gelyke toegang in primêre en sekondêre skole te verseker en die kwaliteit van onderwys in voorheen benadeelde skole, landelike skole inkluis, te verbeter. Die beeld wat landelike gebiede as gevolg van negatiewe faktore ervaar, kan omgeswaai word, maar slegs indien die fokuspunt verander.

In hierdie artikel bespreek ek die wyse waarop twee leerders in ’n plattelandse skoolomgewing navigeer om uitdagings die hoof te bied. Ek lê klem op aspirasionele kapitaal as hulpbron om uitdagende omstandighede binne ruimtes te bowe te kom. Aspirasionele kapitaal is ’n vorm van veerkragtigheid wat individue in staat stel om te droom van moontlikhede buite hul huidige omstandighede, dikwels sonder die nodige middele om daardie doelwitte te bereik (Yosso 2005:78). Selfvertroue ontwikkel leerders se veerkragtigheid en toekomsverwagting, wat weer lei tot hoë vlakke van aspirasies of strewes (Khampirat 2020). Sosiokulturele hulpbronne bevorder veerkragtigheid en beïnvloed leerders se aspirasies. Indien minderheidsgroepe hul gemeenskapskulturele rykdom benut, kan dit hul selfvertroue en veerkragtigheid help vorm, wat weer hul aspirasies ontwikkel.

In hierdie artikel gee ek aandag aan die wyse waarop leerders aspirasionele kapitaal benut om uitdagings teen te werk en akademiese sukses te verseker. Twee leerders van Hoërskool Weskus (skuilnaam) is as deelnemers vir die studie gekies. Die twee leerders, Bongani (skuilnaam), ’n Xhosa-seun, en Katrina (skuilnaam), ’n Nama-meisie, moes verskeie struikelblokke te bowe kom. Albei leerders ry daagliks op ’n grondpad van ongeveer 60 kilometer per bus na Hoërskool Weskus. By die skool is die leerders se taal en kultuur (Nama en Xhosa onderskeidelik) in die subdominante statusposisie. Die leerders kom uit gebroke gesinne en in hul gemeenskapsruimte is daar ’n tekort aan hulpbronne en ontspanningsgeriewe. Volgens Appadurai (2004) kan aspirasionele kapitaal leerders motiveer om ten spyte van die uitdagings wat hulle ervaar, te droom en te hoop.

Mobley en Brawner (2019) se studie wys hoe aspirasionele kapitaal in deursettingsvermoë weerspieël word, somtyds te midde van twyfel en onsekerheid. Hulle toon verder aan dat aspirasionele kapitaal ’n merker van verdeling tussen persone en hul gesinne word. Corbett en Forsey (2017) se studie wys hoe landelike jeugdiges geblameer word vir hul moeilike omstandighede, terwyl hulle tegelykertyd ook aangemoedig word om hoër te streef. Die aspirasionele diskoers wat hulle gebruik, bemoedig jeugdiges om hulself te omskep in geloofwaardige, vaardige neoliberale onderwerpe wat implisiete ruimtelike en mobiele moontlikhede inhou. Cooper, Porter en Davis (2017) beklemtoon dat die kulturele rykdom van gemeenskappe nie in isolasie te vinde is nie, maar as verskillende vorme van kapitaal wat aan mekaar verbind word en mekaar op betekenisvolle maniere beïnvloed. Gesinskapitaal in die vorm van hoë akademiese verwagtinge en ononderbroke ondersteuning dien as ’n grondslag vir die aktivering van aspirasionele en navigasiekapitaal (Yosso 2005). In die Suid-Afrikaanse konteks vertel Nkambule (2014:2009) dat sy staatgemaak het op aspirasionele kapitaal om haar studies te voltooi – dit was die visie van universiteitsbywoning wat haar hoop gegee het en haar geïnspireer het. Nkambule het geweier om toe te laat dat haar omstandighede haar toekoms en toekomsdrome beïnvloed.

Hierdie artikel is ’n voortsetting van ’n verhandeling (Groenewald 2012) waarin die aard van ses jeugdiges se identiteitsvorming by ’n skool in ’n plattelandse mynbou-omgewing verken is. Die deelnemers ervaar die gemeenskaps- en skoolruimte ooreenstemmend of nie-ooreenstemmend. Om die gaping tussen die gemeenskapsruimte en die skoolruimte suksesvol te oorbrug, gebruik leerders linguistiese, aspirasionele en navigasiekapitaal. Hierdie vorme van kapitaal dra by tot posisionering in ’n nuwe ruimte, terwyl dit ook meewerk tot die vorming van jeugsubjektiwiteite. Ek fokus hier op die mate waarin twee leerders aspirasionele kapitaal benut om uitdagings te bowe te kom en terselfdertyd akademiese sukses te verseker.

Eerstens bied ek ’n bespreking van die konsep om te strewe, waarná die teoretiese raamwerk, naamlik Arjun Appadurai (2004) se teorie van die vermoë om te strewe, Tara Yosso (2005) se model van die kulturele rykdom van gemeenskappe en Margaret Somers (1994) se teorie van narratiewe identiteitsvorming, volg. Daarna volg ’n bespreking van die metodologie. Derdens bespreek ek die twee leerders se uitoefening van hul aspirasionele kapitaal om uitdagings te bowe te kom en akademiese sukses te verseker. Ek bied ’n beskrywing van hoe die leerders daagliks binne hul gemeenskapsruimtes – Bessiesdrift en Koedoefontein (skuilname) – omgaan. Dit word gevolg deur ’n bespreking van die twee leerders se ervaringe binne die skoolruimte van Hoërskool Weskus. Die volgende temas spruit voort uit die data van die twee leerders se gemeenskaps- en skoolruimte: die leerders se gemeenskapsnarratiewe, wat fokus op hul persoonlike aspirasionele ervaringe; hul skoolnarratiewe, wat verbind word aan aspirasies binne die skoolkonteks; en navigasie met behulp van aspirasionele kapitaal. Die drie temas bied ’n storielyn van die leerders se navigasie in hul gemeenskaps- en skoolruimte. Vervolgens bied ek ’n bespreking van die teoretiese raamwerk.

 

2. Teoretiese raamwerk

In die artikel fokus ek op die wyse waarop leerders aspirasionele kapitaal benut om uitdagings te bowe te kom en akademiese sukses te verseker. Die studie word belig deur Appadurai (2004) se teorie van die vermoë om te strewe. Dit word gekoppel aan Yosso (2005) se model van die kulturele rykdom van gemeenskappe en Somers (1994) se teorie van narratiewe identiteitsvorming. Ten einde die teoretiese raamwerk te posisioneer, word ’n oorsig van die konsep om te strewe aangebied.

2.1. Om te strewe

Aspirasies word verbind met hulpbronne en geleenthede (Baker 2017). Volgens Bourdieu (1977) weerspieël aspirasies die geleenthede wat mense het en die verskillende vorme van kapitaal waarop individue kan staatmaak om hul doelwitte te bereik. Aspirasies is ingebed in sosiale kontekste en weerspieël die verwagtinge en beperkinge van die spesifieke omgewing (St Clair en Benjamin 2011). Bernard en Taffesse (2014:198) omskryf aspirasies as ’n doelwit of teiken en ’n voorkeur of wens om dit te bereik. Vir Khattab (2015) is die aspirasies van jeugdiges abstrakte waardes en oortuigings aangaande hul toekomsplanne. Gorard, See en Davies (2012:13) glo aspirasies is wat ’n individu hoop in die toekoms sal gebeur. Selfs in gemarginaliseerde kontekste, soos Bessiesdrift en Koedoefontein, kan jeugdiges steeds ’n begrip hê van die teenswoordige wat toekoms word (Zipin, Sellar, Brennan en Gale 2015:236). Met ’n toekomsgeoriënteerde ingesteldheid skuif die fokus van teenswoordige uitdagings na toekomstige moontlikhede.

Aspirasies word grootliks beïnvloed deur habitus – ervaringe gevorm deur die sosialisering, optrede en waarneming van die individu (Bourdieu en Passeron 1990; Baillergeau, Duyvendak en Abdallah 2015). Zipin e.a. (2015) bou voort op Bourdieu (1977) se konsepte habitus en doksa. Doksa verwys na aspirasies wat gevorm word met behulp van diskoers en praktyke met ’n aanvaar-dit-as-vanselfsprekend-status, byvoorbeeld dat harde werk beloon word met goeie resultate. Die skoolkonteks, media, godsdiens en markneigings beïnvloed jeugdiges se doksiese logika. Binne elke skool- en gemeenskapskonteks is daar sekere verwagtinge en reëls wat die doksiese logika beïnvloed. Aspirasies gevorm deur habituslogika is moontlikhede binne die beperkings van ’n spesifieke sosiostrukturele verhouding. Jeugdiges se statusposisie ten opsigte van ras, klas, geslag, taal en godsdiens kan hul aspirasies beïnvloed. Afhangend van die konteks kan die subdominante posisie van leerders se identiteitskategorieë beperkend inwerk op hul aspirasies. Zipin e.a. (2015:238) beskryf ontvouende aspirasies as verbeelding, uitdrukking en agentiese impulse na ’n alternatiewe toekoms – nie doksies of gewoontevormend nie, maar verbeeld in die logika. Selfs in afgeleë gebiede kan leerders hul verbeelding gebruik om ’n alternatiewe toekoms te herbedink.

Die konsep om te strewe is multidimensioneel. Afhangend van die individu se posisie in die sosio-ekonomiese hiërargie kan veelvoudige aspirasies, materieel en nie-materieel, aanvullend tot mekaar of as ooreenstemmende plaasvervangers optree (Khattab 2015). Aspirasies fokus op sowel materiële behoeftes as nie-materiële hoop en drome, asook die waardes en norme wat as gevolg daarvan ontwikkel. Morrow (2013:259) omskryf sosiale waardes as die norme, ideale en aspirasies wat mense in ’n sekere kultuur en ligging deel. Individue se tradisies, norme, gebruike, waardes en praktyke word deur hul sosialisering binne families en gemeenskappe gevorm (Hart 2016:337).

Diegene met dieselfde doelwitte as die individu of met soortgelyke ervaringe betree die individu se sogenaamde venster van aspirasies (Khattab 2015). Individue bou voort op die aspirasies van diegene in hul eie venster deur op dié mense se lewens, prestasies en ideale te fokus. Aspirasies is teenwoordig in alle gemeenskappe en nasies – dit word nooit individueel gevorm nie, maar altyd na aanleiding van interaksie en betrokkenheid by die sosiale lewe (Appadurai 2004:67). Aspirasies vereis ’n begrip van hoe om binne die digte kombinasie van modusse en roetes (Appadurai 2004:69) te navigeer. Realistiese aspirasies word gevorm wanneer individue ongelyke sosiale omstandighede in ag neem. Aan die ander kant word idealistiese aspirasies nie deur sosiale ongelykheid beïnvloed nie. Idealistiese aspirasies kan ontvou in realistiese aspirasies wanneer geleenthede uitbrei (Baillergeau e.a. 2015).

Jeugdiges se lewensuitkyk kan gevorm word deur hul bewustheid van dit waarin hulle goed is, asook die waarde van hul vermoëns. Soos wat hulle ouer word, word hierdie bewustheid omskep in aspirasies (St Clair en Benjamin 2011). Die aspirasies van jeugdiges word mettertyd al hoe meer realisties. Aspirasies is nie staties nie, maar verander regdeur ’n individu se lewe (St Clair en Benjamin 2011:506). Hart (2016:326) glo dat aspirasies sluimerend (onbesproke, ontvouend, abstrak en onseker) voorkom, terwyl dit op enige spesifieke stadium te voorskyn kan kom of ontwikkel.

Verskeie faktore, soos waardes en norme, ouers se drome vir ’n goeie opvoeding, akademiese vaardighede, ondersteuning en gehalteonderwys, beïnvloed die aspirasies van jeugdiges (DeNicolo, González, Morales en Romaní 2015; Pérez II 2017). Die inligting en ondersteuning wat aan jeugdiges in hul gemeenskap- en skoolkonteks verleen word, dra by tot die vorming en bereiking van hul aspirasies (Francis, Hodgen, Craig, Taylor, Archer, Mazenod, Tereshchenko en Connolly 2019). Fischer, Barnes en Kilpatrick (2019) beklemtoon die verbintenis tussen ouerbetrokkenheid en leerders se hoë akademiese aspirasies. Zipin e.a. (2015) se studie aangaande opvoedkundige aspirasies fokus op hoop en die moontlikheid van ’n aktiewe plan vir ’n ontvouende toekoms. Opvoedkundige aspirasies of die motivering om akademiese sukses te bereik word gevorm deur waarnemings en ervaringe (Bandura 1986:417) binne ’n omgewingstelsel (Bronfenbrenner 1977). Die ervaringe wat leerders daagliks in die navigasie tussen ruimtes opdoen, beïnvloed hul aspirasies en optrede.

Volgens Conradie (2013:190) roep aspirasies die idee op van ’n persoon se lewensdrome om ’n goeie lewe te skep met beskikbare bronne van gesondheid, materiële voordele, kreatiwiteit en agentskap. Aspirasies word gekoppel aan ervaring, wat op die beurt weer beïnvloed word deur hulpbronne en geleenthede. Aspirasies word deur die individu se interaksie in die sosiale lewe gevorm. Die individu word nie deur daaglikse uitdagings beperk om ’n lewensvatbare lewe te lei en ideale en ambisies te ontwikkel nie. In die volgende gedeelte word die konsep vermoë om te strewe aangebied.

2.2 Vermoë om te strewe

Appadurai (2004:59–84) gebruik die konsep vermoë om te strewe om te verstaan hoe mense wat in armoedige omstandighede leef dit regkry om deur hul interaksies in die sosiale wêreld lewensvatbare lewens te lei. Die vermoë om te strewe is ’n navigasievermoë wat uitgeoefen word met die potensiaal om die voorwaardes van erkenning waaronder armes optree, te verander (Appadurai 2004:81). Volgens Appadurai (2004:68) is die vermoë om te strewe nie gelyk verdeel in gemeenskappe nie – ryk en invloedryke mense het ’n meer ontwikkelde vermoë om te strewe as arm mense. Hoe groter die individu se voordele met betrekking tot sosiale, kulturele en ekonomiese hulpbronne, hoe groter is die moontlikheid dat aspirasies sal ontstaan en bereik sal word (Smith 2011). Die bevoorregtes in gemeenskappe gebruik hul navigasievermoë om die toekoms meer gereeld en meer realisties te verken. Minderbevoorregte mense, aan die ander kant, se gebrek aan geleenthede om hierdie navigasievermoë te gebruik dra by tot hul gebrekkige strewes (Appadurai 2004).

Die vermoë om te strewe beklemtoon die belangrikheid van die omgewing wat met verloop van tyd die ontwikkeling en bereiking van aspirasies moontlik maak of verhinder (Appadurai 2004). Appadurai (2004:82) stel voor dat spesifieke vorme van selfbestuur, selfmobilisasie en selfartikulasie noodsaaklik is om die veranderende toestande waaronder individue hul vermoë om te strewe bemiddel, te handhaaf. Appadurai (2004) beweer dat sosiale aksies, praktyke en optredes as buigbaar beskou moet word en verwys na hulpbronne en vermoëndheid as noodsaaklike dimensies om ontvouende aspirasies na doeltreffende uitdrukking en die mobilisering van agentskap na ’n alternatiewe toekoms te bewerkstellig. Dit wil voorkom asof individue ’n begrip van hul eie vermoëns en talente moet hê, terwyl hulle ook bewus moet wees van die moontlikhede binne hul omgewings om ’n doelgerigte en toekomsgedrewe lewe te verseker. Appadurai (2004:59) glo dat denke oor die toekoms en die verlede ingebed is in kultuur. Indien die vermoë om te strewe as ’n kulturele aspek versterk word, kan arm mense hulpbronne soek om bo hul armoede uit te styg (Appadurai 2004). Appadurai (2004:84) sien kultuur as ’n dialoog tussen aspirasies en geankerde tradisies. Dit blyk dat die vermoë om te strewe ’n noodsaaklike vaardigheid is as leerders wat in moeilike omstandighede vasgevang is hul uitdagings die hoof wil bied.

2.3 Kulturele rykdom van gemeenskappe

Yosso (2005) wys daarop dat gemarginaliseerde en kwesbare leerders veelvoudige vorme van kapitaal besit wat gebruik word vir oorlewing en mobiliteit. Die kulturele rykdom van gemeenskappe is die kennis, vaardighede, vermoëns en netwerke waaroor gemeenskappe beskik en wat hulle gebruik om te midde van onderdrukking en marginalisering te oorleef. Yosso (2005:77) beklemtoon die vermoë om te bly hoop te midde van gestruktureerde ongelykheid en dikwels sonder die middele om drome ’n werklikheid te maak. Aspirasies ontwikkel binne sosiale en familiekontekste, baie keer deur middel van storievertelling en advies wat spesifieke navigasiemiddels insluit om onderdrukkende toestande uit te daag. Dié model identifiseer ses vorme van kapitaal: aspirasionele, navigasie-, sosiale, linguistiese, gesins- en weerstandskapitaal (Holland 2017; Miller 2019). Yosso (2005) se model is dus ’n hulpbrongebaseerde perspektief wat minderheidsgroepe bemagtig om agentskap te toon.

Die bovermelde kapitaalvorme funksioneer nie in isolasie nie, maar is aanvullend tot mekaar. In hierdie studie fokus ek egter op slegs aspirasionele kapitaal as ’n hulpbron om uitdagings die hoof te bied. Aspirasionele kapitaal is die vermoë om doelgerig te bly te midde van moeilike omstandighede. Hierdie uitdagings kan te bowe gekom word deur beskikbare hulpbronne te ontgin. Aspirasionele kapitaal verteenwoordig ’n kultuur van moontlikhede wat verby die ervaarde omstandighede strek (Nkambule 2014). Voorts verwys aspirasionele kapitaal na ’n positiewe selfbeeld, gekoppel aan ’n kritiese bewustheid van hoe gemeenskappe funksioneer. Dit fokus op die tweeledige begrip om individuele doelwitte te handhaaf tesame met ’n begrip van hoe gemeenskapstrukture en uitdagings die verwesenliking van hierdie doelwitte mag verhinder (Yosso en Garcia 2007). Aspirasionele kapitaal steun op interne en individuele motivering (Mobley en Brawner 2019).

In Suid-Afrika ervaar jeugdiges unieke uitdagings rakende hul konteks en kultuur. Fataar (2010) toon aan hoe jeugdiges se aspirasies gevorm word deur die konteks waarin hulle verkeer en hoe ongelyke en armoedige ruimtes agentskap en toekomsgedrewe aspirasies by jeugdiges kweek. Mosavel, Ahmed, Ports en Simon (2015) illustreer hoe jeugdiges gemeenskapsbronne benut waar daar beperkte hulpbronne en uitdagende toestande is. Jeugdiges met beperkte vlakke van kapitaal in hul gemeenskapsruimtes gebruik aspirasies, godsdiens en verbeelding om in uitdagende omstandighede aan te pas en te navigeer, aldus Joorst (2015).

As ’n vorm van veerkragtigheid is aspirasionele kapitaal ’n kwaliteit van die ontwikkelingstrajek wat gevorm word deur individuele ervaringe en kontekstuele en omgewingstoestande (Hart, Stubbs, Plexousakis, Georgiadi en Kourkoutas 2015:7). Hierdie veerkragtigheid stel individue in staat om te droom oor moontlikhede wat verby die teenswoordige omstandighede strek, dikwels sonder die nodige middele om daardie doelwitte te bereik (Yosso 2005:78). Aspirasionele kapitaal is ’n basis vir ’n kultuur van moontlikhede, wat op sy beurt weer beïnvloed word deur die beskikbare hulpbronne.

2.4 Narratiewe identiteit

In hierdie artikel word Margaret Somers (1994) se teorie van narratiewe identiteitsvorming aanvullend tot Appadurai (2004) se teorie van die vermoë om te strewe en Yosso (2005) se model van die kulturele rykdom van gemeenskappe gebruik. Volgens Somers (1994) word die individu voortdurend binne die konteks van tyd, plek en mag gekonstrueer en geherkonstrueer. Narratiewe is ’n manier om sin te maak van die verlede, terwyl dit terselfdertyd die toekoms rig. As ’n sinmaakproses beïnvloed narratiewe dus die individu se optrede. Ingebed in elke individu is ’n verskeidenheid stories wat verander na gelang van die spesifieke tyd en ruimte waarin die individu hom- of haarself bevind (Somers 1994). Deur oor ervaringe te besin, word dit herroep voordat dit oorvertel word. ’n Storielyn word geskep wanneer los episodes aan mekaar verbind word.

Somers (1994) onderskei tussen ontologiese narratiewe en openbare narratiewe. In hierdie artikel gebruik ek die deelnemers se ontologiese en openbare narratiewe om vas te stel hoe twee leerders aspirasionele kapitaal gebruik om struikelblokke te bowe te kom en akademiese sukses te verseker. Ontologiese narratiewe is die persoonlike stories wat betekenis verleen aan individue se lewens. Hierdie narratiewe bestaan interpersoonlik in die loop van sosiale en strukturele interaksies van tyd (Somers en Gibson 1994:61) en fokus op slegs individue se unieke ervaringe, soos gesinsrolle, waardes en norme. Die deelnemers se ervaringe binne hul onderskeie gemeenskapsruimtes, Bessiesdrift en Koedoefontein, is ontologies van aard, aangesien dit fokus op hul persoonlike ervaringe binne hul onmiddellike leefwêreld. Openbare narratiewe of gemeenskapsnarratiewe word verbind met instellings soos die kerk, skool of werksplek. Hierdie narratiewe sluit historiese en kulturele aspekte, soos taal en gemeenskapsgebruike, in. Openbare narratiewe sluit dus ook mikro- of makrostories in verskillende ruimtes in. Die institusionele narratiewe van die deelnemers belig hul ervaringe binne die skoolkonteks van Hoërskool Weskus.

 

3. Navorsingsontwerp

In die volgende gedeelte gee ek ’n aanbieding van die metodologie, die gekose deelnemers en die generering en ontleding van die data.

3.1 Metodologie

Die artikel volg ’n kwalitatiewe navorsingsontwerp, aangesien die fokus val op ’n beskrywing en verstaan van menslike gedrag en nie die verduideliking daarvan nie (vgl. Babbie 2020). In ooreenstemming met die aanname dat die werklikheid sosiaal gevorm word, word die studie gerig deur die sosiaal-konstruktivistiese paradigma (vgl. Mertens 2015). Aangesien ek in hierdie studie wil vasstel hoe leerders aspirasionele kapitaal benut om uitdagings te oorkom en akademiese sukses te verseker, word storievertelling as navorsingsbenadering gebruik. ’n Narratiewe benadering het my in staat gestel om in spesifieke kontekste en raamwerke van tyd na die deelnemers se stories te luister. Dié benadering sluit vertelling, interpretasie en die oorvertelling van stories in. Narratiewe is egter nie net stories nie, maar soos Somers (1992:621) argumenteer, word sosiale identiteite deur narratiwiteit gevorm, sosiale optrede word deur narratiwiteit begelei en sosiale prosesse en interaksie – institusioneel sowel as interpersoonlik – word deur narratiewe bemiddel.

Narratiewe is refleksies óp – nie ván nie – die wêreld soos dit bekend is (Denzin en Lincoln 2017). Volgens Connelly en Clandinin (2006) word ’n narratiewe ondersoek gekenmerk deur drie dimensies, naamlik sosialiteit, tydelikheid en plek. Sosialiteit erken die historiese en kulturele praktyke van elke individu. Die tydelike dimensie beklemtoon die oorganklikheid van gebeure – alle ervaringe het ’n verlede, ’n hede en ’n toekoms.

3.2 Deelnemers

In hierdie navorsing wou ek vasstel hoe twee leerders aspirasionele kapitaal benut om uitdagings te bowe te kom en akademiese sukses te verseker. Twee leerders, ’n Xhosa-seun van Bessiesdrift en ’n Nama-meisie van Koedoefontein, is as deelnemers gekies. In die hoofstudie, wat op ses jeugdiges se identiteitsvorming by ’n skool in ’n plattelandse mynbou-omgewing gefokus het, het twee leerders geïllustreer hoe hulle in die navigasie van gemeenskapskonteks na skoolkonteks staatgemaak op aspirasionele kapitaal. Met die doelgerigte seleksie van dié twee deelnemers kon ek fokus op die sentrale navorsingsvraag: Hoe benut leerders aspirasionele kapitaal om leerderuitdagings teen te werk en akademiese sukses te verseker? In die volgende afdeling word meer inligting rakende die deelnemers se kultuur en konteks verskaf.

In kwalitatiewe navorsing is die hoeveelheid deelnemers nie van belang nie, maar eerder die diepte van die data (Bold 2012; Burmeister en Aitken 2012). Die deelnemers het die geleentheid gekry om oor hul gemeenskaps- en skoolervaringe na te dink en dit oor te vertel. Die narratiewe is wel persoonlik en uniek, maar gee ’n uitbeelding van hoe aspirasionele kapitaal bydra tot suksesvolle navigasie binne ruimtes. Die leerders, onderskeidelik 18 en 20 jaar oud, het ’n toestemmingsvorm, wat die fokus van die studie uitspel en waarin hulle instem dat hulle hieroor ingelig is, onderteken. Skuilname is deurgaans gebruik om die identiteit van die deelnemers te beskerm. Die Universiteit Stellenbosch het etiese klaring toegestaan, terwyl die skool se beheerliggaam en die Noord-Kaapse Departement van Onderwys toestemming verleen het dat onderhoude met die leerders gevoer kon word.

3.3 Datagenerering en -ontleding

Data is deur middel van vier semigestruktureerde onderhoude van ongeveer 50 minute elk met beide deelnemers gegenereer. ’n Voorlopige onderhoudskedule, wat fokus op die hoofnavorsingsvraag, is opgetrek. Die eerste onderhoud het die leerders se biografiese agtergrond vasgevang. Hierna het elke onderhoud op ’n spesifieke tema gefokus. Drie temas het die leerders se jeugwording in ’n plattelandse mynbou-omgewing verken, naamlik die leerders se gemeenskapsnarratiewe, hul institusionele narratiewe en hul onderhandeling en navigasie binne veranderde ruimtes. Die onderhoude het my in staat gestel om vas te stel hoe die deelnemers hulself binne nuwe ruimtes posisioneer. Elke onderhoud het die deelnemers se unieke ervaringe binne hul gemeenskaps- en skoolruimte vasgevang. Met die deelnemers se toestemming is die onderhoude audio-elektronies opgeneem, waarna dit getranskribeer is.

Die data is as harde kopie in ’n kluis bewaar en ook as ’n sagte kopie in ’n rekenaardokument wat met ’n wagwoord beskerm is. Deur die ryk beskrywings van elke deelnemer word hul ervaringe in hul onderskeie gemeenskapsruimtes en skoolruimte verken. Induktiewe tematiese ontleding is gebruik om die temas wat herhaaldelik in die onverwerkte data voorgekom het, te identifiseer en te ontleed. Soortgelyke gedagtes in die data is met kleur gemerk waarna dit in temas en subtemas verdeel is. Temas lê iets belangriks met betrekking tot die data in verband met die navorsingsvraag vas en verteenwoordig vlakke van patroonmatige antwoorde of betekenis in die datastel (Braun, Clarke en Weate 2016). Die temas is ontleed aan die hand van die teoretiese lense, naamlik Appadurai (2004) se teorie van die vermoë om te strewe, Yosso (2005) se model van die kulturele rykdom van gemeenskappe en Somers (1994) se teorie van narratiewe identiteitsvorming.

Om die betroubaarheid van die studie te verseker, word ware en ryk beskrywings van die deelnemers se ervaringe aangebied. Die volgende stappe is uit die literatuur verkry om die betroubaarheid van datagenerering te verseker: gefokusde luister en verkenning van die deelnemers se geleefde wêrelde het plaasgevind; die vier onderhoudsessies wat met die deelnemers gevoer is, het ’n vertrouensverhouding tussen my en die deelnemers gevestig; die tydsverloop tussen die onderhoudsessies het daartoe bygedra dat die deelnemers op vorige ervaringe kon terugkyk en daaroor nadink, met die gevolg dat uitgebreide antwoorde in ’n volgende onderhoudsessie gegee is; die deelnemers (wat alleen toegang tot hul betekenisvolle ervaringe het) het hul unieke stemme na vore gebring; en die deelnemers het die geleentheid gekry om die getranskribeerde tekste te lees en te kontroleer of dit wel ooreenstem met hul vertellings (vgl. Kim 2016).

Voorts het ek ’n verstehen-benadering (uit Duits – “objektiewe begrip”) gevolg om die geldigheid van die data-ontleding te verseker. Met ’n verstehen-benadering is dit vir die vertolker moontlik om sy of haar historiese omstandighede te oorbrug of daarvan weg te breek ten einde die betekenis en intensie van die verteller weer te gee (Tracy 2020).

 

4. Narratiewe van aspirasies

Die narratiewe van die deelnemers word in die volgende afdeling bespreek onder die temas gemeenskapsnarratiewe en institusionele narratiewe.

4.1 Gemeenskapsnarratiewe

In die volgende gedeelte word die deelnemers se persoonlike ervaringe in hul onderskeie gemeenskapsruimtes aangebied en word daar aangedui hoe dié ervaringe inwerk op hul aspirasies.

4.1.1 Bongani

Die 18-jarige Bongani woon in Bessiesdrift, ’n mynbounedersetting langs die Oranjerivier. Die nedersetting is sowat 60 kilometer van Hoërskool Weskus en 150 kilometer van die naaste groot dorp af. Die naaste hospitaal is 310 kilometer vêr. Die inwoners van Bessiesdrift is gewoond daaraan om groot afstande te reis vir inkopies of doktersafsprake. Bessiesdrift het min hulpbronne en Bongani vertel dat die isolasie mense “uitsigloos” maak. Die tekort aan ontspanningsgeriewe veroorsaak dat baie jeugdiges hulle tot alkohol en dwelms wend. Te midde van sodanige uitdagings gee die mense van Bessiesdrift om vir mekaar en is ondersteuning deel van dié plattelandse gemeenskap. Bongani geniet die geïsoleerdheid van sy gemeenskap; hy gaan dink en droom gereeld in die veld. Sy verbeelding help veral as probleme onoorkomelik lyk.

Bongani se pa is Xhosa-Zoeloe en sy ma is van gemengde Xhosa-, Nigeriese en Maleise afkoms. Hy het tussen bruin mense grootgeword en op dié manier het hy leer Afrikaans praat. Wat sy eie Xhosa-kultuur betref, kan hy hom nie vereenselwig met sekere tradisies, soos inisiasie, nie. Bongani het nog baie vrae oor wie hy is en verwys na homself as ’n “citizen of the world”. Kulturele en historiese prosesse dra by tot ’n verstaan van wie hy is (vgl. Somers 1994). Bongani se pa het sonder opleiding ’n vertaler geword. Bongani glo sy pa het sy “omstandighede verander om homself te verbeter”. By sy pa het hy geleer “as jy regtig iets wil hê en as jy regtig ’n sukses wil maak, is dit in jou hande”. Bongani het van sy ma geleer dat ’n mens “uitdagings kan oorkom”. Sy sosialisering het sy vermoë om te strewe van jongs af beïnvloed. Bongani se ouers is geskei toe hy agt jaar oud was. Hy het egter vir groot dele van sy lewe by ander mense gewoon. Tans woon hy by sy ma en sy vierjarige halfsuster in Bessiesdrift. Bongani se ma gee hom die nodige ondersteuning en plaas nie onnodige druk op hom nie. Vakansietye gaan kuier hy by sy pa. Bongani moet self sy klere was en sekere take in die huis verrig. Sy ma sorg dat daar stilte in die huis is as hy leer. Bongani se persoonlike narratiewe aangaande gesinsrolle, waardes en norme illustreer sy ervaringe en rig sy aspirasies (vgl. Somers 1994).

Bongani kies sy vriende versigtig. Sy vriende is almal positiewe mense wat hom in moeilike tye ondersteun. As deel van die kerk se jeuggroep sing Bongani Sondae in die kerk. Positiewe waardes is duidelik sigbaar in Bongani se gemeenskapsnarratiewe. Bongani se ervaringe in Bessiesdrift is gevorm deur sy sosialisering, waarneming en optrede, wat op hul beurt weer sy aspirasies beïnvloed het (vgl. Bourdieu en Passeron 1990).

4.1.2 Katrina

Die 20-jarige Katrina woon in Koedoefontein, ’n Nama-nedersetting wat 60 kilometer van Hoërskool Weskus en 60 kilometer van die Richtersveld Nasionale Park af geleë is. In hierdie semiwoestynstreek is geleenthede min. Katrina geniet die isolasie en afsondering van haar gemeenskap. Terwyl die seuns op die veepos werk, hou die meisies hulle besig met huistake. Die tekort aan kommunikasienetwerke en gesonde ontspanningsgeriewe veroorsaak dat baie jeugdiges by alkohol- en dwelmmisbruik betrokke raak.

Ten spyte van die negatiewe ervaringe is Katrina dankbaar om deel te wees van die Nama-gemeenskap in Koedoefontein. Die mense van Koedoefontein is almal soos familie – hulle ondersteun mekaar in moeilike tye. Armoede is algemeen in Koedoefontein. Die inwoners se inkomste is afkomstig van toeriste wat die dorp besoek, veeboerdery en die gemeenskapswerkprogram. Tussen Maart en September besoek toeriste Koedoefontein wanneer hulle na die Richtersveld Nasionale Park reis. Katrina gebruik hierdie geleenthede om Nama-danse vir die besoekers uit te voer en verdien daarmee sakgeld. Al het die Richtersveld-grondeisesaak verdeeldheid onder die mense van Koedoefontein gebring, is daar altyd ondersteuning in tye van nood.

Die Nama-tradisies, -taal en -kultuur word sterk uitgeleef in Koedoefontein. Katrina is trots op haar Nama-kultuur. Sy vertel van die tradisie as ’n meisie die eerste keer menstrueer. Die meisie word dan vir agt dae afgesonder in ’n matjieshut. Net haar ouma of haar ma se oudste suster mag vir haar kos neem of help om haar te was. Op die agtste dag sal die meisie se jeugliefde met haar dans en terwyl daar ’n bok geslag word, begin die feesvieringe. Ingebed in Katrina se kultuur is ervaringe van die verlede wat haar toekoms beïnvloed (vgl. Somers 1994:614). Godsdiens is ook vir Katrina belangrik. As doksiese logika (vgl. Zipin e.a. 2015:231) is die bywoning van eredienste, waarvan sang ’n groot deel vorm, vanselfsprekend vir Katrina.

Toe sy 10 jaar oud was, het Katrina se ma en ouma in ’n ongeluk omgekom. Katrina het geen kontak of verhouding met haar pa, wat Koedoefontein reeds jare gelede verlaat het, nie. Ná haar ma se dood moes sy en haar halfbroer by haar ma se suster gaan woon. Hulle woon in ’n tweevertreksinkhuis. Daar is elektrisiteit, maar geen badkamer nie. Katrina en haar tante kom ook nie goed oor die weg nie. Sy vertel: “Ek het nooit rêrig iemand gehad wat ek vertrou het nie.” Die bakleiery in die beknopte huis en ’n tekort aan volwasse leiding het veroorsaak dat Katrina by verkeerde maats betrokke geraak het. Katrina se armoedige omstandighede het ’n gebrek aan geleenthede meegebring, wat aanvanklik haar vermoë om aspirasies as navigasiemiddel te gebruik, gestrem het (vgl. Appadurai 2004). Katrina het wel later ’n vriendin gekry wat haar positief ondersteun het. Sy het besef dat sy positief moet raak ter wille van haar broer en hom moet motiveer om nie teen “sy omstandighede vas te kyk nie, maar uit te styg uit sy omstandighede”.

4.2 Institusionele narratiewe

Die deelnemers se institusionele aspirasies binne die skoolruimte word in die volgende gedeelte aangebied.

4.2.1 Bongani

Reeds op laerskool het Bongani geleer om hard te werk. Bongani moes leer dat struikelblokke, soos ’n tekort aan inligtingsbronne en sy arm klasmaats, nie sy akademiese prestasie bepaal nie. Bongani openbaar van jongs af die vermoë om doelwitte te handhaaf, terwyl hy ook bewus is van negatiewe faktore wat die bereiking van sy doelwitte kan strem (vgl. Yosso en Garcia 2007). Vir Bongani is skoolgaan lekker. Hy geniet dit om in die klas te luister, veral as die onderwyser moeite doen met die les en “waar daar interaksie tussen ons leerders en die onderwysers is […] waar die onderwyser die werk probeer pret maak”.

Hoërskool Weskus, 60 kilometer vanaf Bessiesdrift, is die naaste hoërskool aan Bessiesdrift. Bongani wou naby sy ma wees en het daarom besluit om nie na ’n kosskool te gaan nie. Weens die groot afstand skool toe was dit vir hom moeilik om aan buitemuurse aktiwiteite deel te neem. Ten spyte van die afstand, het sy onderwysers hom altyd bygestaan en gemotiveer om aan aktiwiteite of kompetisies deel te neem. Bongani se skoolnarratiewe illustreer die moontlikhede binne beperkte omstandighede – habituslogika (vgl. Zipin e.a. 2015). Ten spyte van die groot afstand wat hy skool toe moes reis, was daar ondersteuning waarop hy kon staatmaak. Bongani kon die skool se rekenaarlokaal met internetverbinding gebruik as hy naslaanwerk vir take of aktiwiteite moes doen. Bongani moes elke dag ongeveer 60 kilometer per bus na Hoërskool Weskus reis. Die uur lange busrit het hy gebruik om sy gedagtes te orden. Die twee uur per dag wat Bongani moes pendel, het hom genoodsaak om vaardighede te ontwikkel om sy akademiese sukses te verseker. Met deeglike beplanning en tydsbestuur het hy dit reggekry om al sy skoolwerk af te handel. Bongani se werksetiek het goeie uitslae verseker en hy het ’n inspirasie vir sy maats geword.

By Hoërskool Weskus het Bongani ander kultuurgroepe, soos die Namas, Damaras, Ovambo’s en wit mense, leer ken. Al is Bongani die enigste Xhosa-leerder in die skool, voel hy gemaklik tussen die ander kultuurgroepe. Bongani het tussen bruin mense1 grootgeword en identifiseer nie met sy Xhosa-kultuur nie. Hy voel wel uitgesluit as sy maats van Namibië hul huistale, Damara of Ovambo, praat. Terwyl Bongani se subdominante Xhosa-kultuur nie beperkend inwerk op sy aspirasies nie, is die taaldiversiteit by Hoërskool Weskus wel vir hom ’n struikelblok. Bongani glo diversiteit is die reg om jouself te wees sonder om aanstoot aan ander te gee. Bongani het ’n passie vir kulturele aktiwiteite. Terwyl hy in die laerskool was, het hy aan die Love Life Games deelgeneem. Hy en sy maats het toneelstukke geskryf en dit dan self opgevoer. Op hoërskool het Bongani aan verskeie kultuurkompetisies, soos die Albert Luthuli Young Historians-kompetisie, deelgeneem. Bongani het die grondeisesaak van die Richtersveld as onderwerp gekies. Hy het vierde in die kompetisie geëindig en as deel van die topvierleerders kon Bongani die Junior G Beraad in Rome bywoon. Om saam met jeugdiges van regoor die wêreld oor onderwerpe soos klimaatsverandering te gesels was ’n ervaring wat hy nooit sal vergeet nie. Die vele redenaarskompetisies waaraan Bongani deelgeneem het, het hom as ’n spreker gevestig en sy selfvertroue verbeter. Bongani is gewild onder die leerders van Hoërskool Weskus en in sy graad 12-jaar is hy tot hoofseun van die skool verkies. Met sy goeie selfbeeld kon Bongani sy doelwitte bereik (vgl. Yosso en Garcia 2007). Ten spyte van ekonomiese struikelblokke is daar voldoende sosiale en kulturele hulpbronne wat Bongani se aspirasievorming beïnvloed het (vgl. Appadurai 2004).

4.2.2 Katrina

Katrina moes elke oggend ongeveer 75 kilometer per bus na Hoërskool Weskus pendel. Die uur lange busrit kan soms gevaarlik wees. Katrina onthou hoe die bus een oggend in nat weer van die pad af gegly het. Gelukkig is niemand beseer nie. Tot en met haar ma se dood in graad 3 het Katrina goed presteer op skool. Sy is saam met twee ander Nama-leerders gekies om Noorweë te besoek. Met behulp van Nama-danse, Nama-woorde en hul roosterkoekresep moes hulle die Noorweërs inlig oor hul Nama-kultuur. Na haar ma se dood het Katrina geen ouerondersteuning gehad nie. Sy het bevriend geraak met verkeerde maats en haar skoolwerk het agteruitgegaan. Katrina moes graad 9 herhaal. Dit het veroorsaak dat sy nie meer wou skoolgaan nie, “want sy was die oudste tussen die meisies”. Baie leerders van Koedoefontein verlaat die skool vroeër weens alkohol- en dwelmmisbruik en ’n gebrek aan ondersteuning. Ten spyte van negatiewe invloede in haar gemeenskap is Katrina se narratiewe ’n sinmaakproses (vgl. Somers 1994) waardeur sy aangespoor is om steeds skool by te woon.

Ondanks die uitdagings wat sy in graad 9 te bowe moes kom, het Katrina haar skooldae geniet. Sy het ook geleer om positiewe vriende te kies wat haar in moeilike tye kon ondersteun. Hoërskool Weskus voel vir haar soos ’n familie. Op hoërskool was Katrina vir die eerste keer saam met wit leerders in ’n klas. Haar gemoedelike geaardheid het gehelp dat sy bevriend geraak het met leerders uit verskillende kulturele agtergronde. Só kon sy daarin slaag om in die multikulturele skool aan te pas. Narratiewe is ’n manier om sin te maak uit ervaringe, terwyl dit ook verdere optrede rig (Somers 1994).

Katrina glo dat daar voldoende ondersteuning by Hoërskool Weskus is, wat daartoe lei dat leerders hulself kan uitleef. Aangesien daar geen rolmodelle by Katrina se huis is nie, moes sy sekere dinge, soos om mense met respek te behandel, by die skool leer. In haar graad 12-jaar wou sy op ’n stadium die skool verlaat. Haar gesin het geen verwagtinge vir haar gehad nie – solank sy werk en ’n inkomste verdien, sou hulle tevrede wees. Met die ondersteuning van haar onderwysers en maats het Katrina wel haar graad 12-jaar voltooi. Katrina se droom is om ’n aktrise te word of as toeristebeampte vir die Richtersveld Nasionale Park te werk. Aspirasionele kapitaal het Katrina gehelp om doelgerig te bly te midde van haar moeilike omstandighede.

4.3 Navigasie met behulp van aspirasionele kapitaal

In die volgende afdeling bespreek ek hoe die deelnemers aspirasionele kapitaal benut het in die navigasie van gemeenskapsruimte na skoolruimte. Spesifieke verwysing word verleen aan die deelnemers se vermoë om te strewe en die wyse waarop hulle as agente vir verandering opgetree het.

4.3.1 Die vermoë om te strewe

Waardes en norme lê die grondslag vir aspirasies. Hierdie nie-materiële hulpbronne word deur ervaringe tydens sosialisering verkry (Hart 2016). Individue met ’n positiewe ingesteldheid en ’n deeglike begrip van dit wat belangrik is in die lewe kan te midde van moeilike omstandighede steeds doelgerig bly. Bongani het waardevolle lewenslesse, soos om nie teen sy probleme vas te kyk nie, van sy ouers ontvang. Hy het ook van jongs af geleer om mense met respek te behandel. Met sy hardwerkende ingesteldheid streef Bongani daarna om hoër hoogtes te bereik. Na haar ma se dood het Katrina geen ouerleiding gehad nie. Onderwysers se leiding het haar gehelp om die waarde van respek te leer en om nie moed op te gee nie. Met drome vir ’n beter toekoms verskuif die fokus van die sigbare moeilike omstandighede na onsigbare moontlikhede. Katrina se droom om ’n aktrise of toeristebeampte te word, het haar gehelp om verby die struikelblokke te kyk en haar skoolloopbaan te voltooi.

Bongani is die enigste Xhosa-leerder in die skool. Aangesien hy tussen bruin mense grootgeword het, kon hy maklik in die multikulturele skool aanpas. Katrina se joviale geaardheid het haar gehelp om verskillende kultuurgroepe te leer ken en te verstaan. Al verteenwoordig die Nama-leerders ’n klein persentasie van Hoërskool Weskus se leerders, het sy nooit gemarginaliseer gevoel nie. By skoolgeleenthede is Nama-danse uitgevoer en in die proses het die leerders meer van die Nama-kultuur geleer. Met beskikbare hulpbronne word ’n kultuur van moontlikhede ontvou (Yosso 2005). Bongani het aan kultuurkompetisies deelgeneem sodat sy selfvertroue verbeter het terwyl hy ook nuwe plekke en mense leer ken het. Met tradisionele Nama-danse kon Katrina sakgeld van toeriste verdien en nuwe bestemmings ontdek. Hierdie kulturele geleenthede beklemtoon die verbintenis tussen aspirasies en tradisie (vgl. Appadurai 2004). Met ouers en onderwysers se ondersteuning kan leerders vasklou aan die moontlikhede vir ’n beter lewe. Terwyl Bongani se ma hom ondersteun het, het Katrina geen ouerondersteuning gehad nie. Die ondersteuning wat Bongani en Katrina by Hoërskool Weskus ontvang het, het hulle gehelp om doelgerig te bly. By Hoërskool Weskus het Bongani en Katrina met die nodige ondersteuning graad 12 suksesvol voltooi. Die ondersteuning wat Bongani en Katrina ontvang het, het die grondslag gelê vir die aktivering van hul aspirasies, suksesvolle navigasie in die skoolruimte en hul akademiese prestasie.

Bongani en Katrina se sosialisering in die afgeleë Bessiesdrift en Koedoefontein het hul vermoë om te strewe op ’n bepaalde manier beïnvloed. Ten spyte van die beperkinge wat hul gemeenskapsruimte ingehou het, kon Bongani en Katrina op nie-materiële hulpbronne, soos waardes, norme en tradisies, staatmaak om ontvouende aspirasies teweeg te bring. In die plattelandse gemeenskaps- en skoolruimte ervaar Bongani en Katrina ondersteuning en omgee. Te midde van ekonomiese struikelblokke is daar voldoende kulturele en sosiale hulpbronne in die gemeenskaps- en skoolruimte om aspirasies te vestig.

4.3.2 Agente vir verandering

Met die vermoë om te strewe en die benutting van moontlikhede kan individue as agente vir verandering optree. Agente vir verandering maak staat op aspirasionele kapitaal om ’n aktiewe plan vir ’n ontvouende toekoms te skep (Zipin e.a. 2015). ’n Alternatiewe toekoms word met behulp van verbeelding en agentskap geskep. Vir sowel Bongani as Katrina is die isolasie van hul gemeenskappe nie ’n struikelblok nie. In die afgeleë Bessiesdrift kon Bongani sy kreatiewe verbeelding ontwikkel. Katrina kon haar kultuur in Koedoefontein uitleef – met Nama-danse het sy sakgeld verdien, terwyl sy haar vereenselwig het met die huishoudelike take van Nama-meisies.

Bongani en Katrina het daagliks met uitdagings, soos die tekort aan hulpbronne in hul gemeenskappe en die groot afstand skool toe, te kampe gehad. Bongani het interne konflik aangaande sy eie identiteit ervaar, terwyl daar geen ouerleiding vir Katrina was nie. Met positiewe vriende, onderwyserondersteuning, ’n omgeegemeenskap en kulturele geleenthede het Bongani en Katrina albei begin hoop vir en droom oor moontlikhede buite hul uitdagende omstandighede. Katrina het haar broer gemotiveer om nie teen sy probleme vas te kyk nie en Bongani het positiewe eienskappe, soos selfdissipline en deursettingsvermoë, openbaar. Sy prestasies het van hom ’n rolmodel vir sy skoolmaats gemaak.

 

5. Gevolgtrekking

Die bevinding dui daarop dat probleme wat in landelike gebiede ervaar word, soos ’n tekort aan hulpbronne en swak ekonomiese omstandighede, nie ’n onoorkomelike struikelblok vir leerdersukses hoef te wees nie. Aspirasionele kapitaal stel leerders in staat om nie op teenswoordige hindernisse te fokus nie, maar te hoop vir en te droom oor ’n beter toekoms. Dit blyk dat nie-materiële hulpbronne, soos waardes, norme en ondersteuning, leerders se aspirasies kan help vorm. Selfs in afgeleë gebiede kan individue ’n begrip toon van die huidige wat die toekoms word. Ervaringe, gevorm deur sosialisering, optrede en waarneming binne spesifieke kontekste, beïnvloed die individu se aspirasies. Leerders wat nie oor die nodige ekonomiese hulpbronne beskik nie, kan op sosiale (vriende en onderwysers) en kulturele (tradisies en waardes) hulpbronne staatmaak om struikelblokke teë te werk en akademiese sukses te verseker. Hulpbronne kan geïdentifiseer en benut word as leerders begrip van hulleself en hul gemeenskappe toon. Daar kan geredeneer word dat hierdie vaardighede, vermoëns en kennis leerders in staat kan stel om te midde van uitdagings te hoop vir en te droom oor ’n beter toekoms. Om die grondigheid en onpartydigheid van die studie te verseker, kon ’n leerder uit ’n ander kultuurgroep bygevoeg word en ’n kollega van ’n ander skool kon die data getranskribeer het. Hierdie leemte kan deur verdere studies aangevul word.

 

Bibliografie

Appadurai, A. 2004. The capacity to aspire: Culture and the terms of recognition. In Vijayendra en Walton (reds.) 2004.

Babbie, E.R. 2020. The practice of social research. 15de uitgawe. Kalifornië: Belmont.

Baillergeau, E., J.W. Duyvendak en S. Abdallah. 2015. Heading towards a desirable future: Aspirations, commitments and the capability to aspire of young Europeans. Open Citizenship, 5(2):12–23. https://oc.citizensforeurope.org/ojs/aspirations-commitments-and-the-aspirational-capacity-of-young-europeans (11 Mei 2021 geraadpleeg).

Baker, W. 2017. Aspirations: The moral of the story. British Journal of Sociology of Education, 38(8):1203–16. https://doi.org/10.1080/01425692.2016.1254540 (11 Mei 2021 geraadpleeg).

Bandura, A. 1986. Social foundations of thought and action: A social cognitive theory. Englewood Cliffs: Prentice Hall.

Bernard, T. en A.S. Taffesse. 2014. Aspirations: An approach to measurement with validation using Ethiopian data. Journal of African Economies, 23(2):189–224. http://dx.doi.org/10.1093/jae/ejt030 (10 Oktober 2020 geraadpleeg).

Bold, C. 2012. Using narrative in research. Los Angeles: Sage.

Bourdieu, P. 1977. Outline of a theory of practice. Cambridge: Cambridge University Press.

Bourdieu, P. en J.C. Passeron. 1990. Reproduction in education, society and culture. Londen: Sage.

Braun, V., V. Clarke, en P. Weate. 2016. Using thematic analysis in sport and exercise research. In Smith en Sparkes (reds.) 2016.

Bronfenbrenner, U. 1977. Toward an experimental ecology of human development. American Psychologist, 32(7):513–31.

Burmeister, E. en L. Aitken. 2012. Sample size: How many is enough? Australian Critical Care, 25(4):271–74.

Connelly, F. en D. Clandinin. 2006. Narrative inquiry. In Green en Elmore (reds.) 2006.

Conradie, I. 2013. Can deliberate efforts to realise aspirations increase capabilities? A South African case study. Oxford Development Studies, 41(2):189–219.

Cooper, J.N., C.J. Porter en T.J. Davis. 2017. Success through community cultural wealth: Reflection from black female college athletes at a historically black college/university (HBCU) and a historically white institution (HWI). Journal of Intercollegiate Sport, 10(2):129–56.

Corbett, M. en M. Forsey. 2017. Rural youth out-migration and education: Challenges to aspirations discourse in mobile modernity. Discourse: Studies in Cultural Politics of Education, 38(3):429–44.

DeNicolo, C.P., M. González, S. Morales en L. Romaní. 2015. Teaching through testimonio: Accessing community cultural wealth in school. Journal of Latinos and Education, 14(1):228–43.

Denzin, N.K. en Y.S. Lincoln. 2017. The discipline and practice of qualitative research. In Denzin en Lincoln (reds.) 2017.

Denzin, N.K. en Y.S. Lincoln (reds.). 2017. The SAGE handbook of qualitative research. 5de uitgawe. Thousand Oaks: Sage.

Departement van Onderwys. 2015. Action plan to 2019: Towards the realisation of schooling 2030. Pretoria: Staatsdrukker.

Du Plessis, P. en R. Mestry. 2019. Teachers for rural schools – a challenge for South Africa. South African Journal of Education, 39(1):1–9. https://dx.doi.org/10.15700/saje.v39ns1a1774 (10 Oktober 2020 geraadpleeg).

Fataar, A. 2010. Youth self-formation and the “capacity to aspire”. The itinerant “schooled” career of Fuzile Ali across post-apartheid space. Perspectives in Education, 28(3):1–12.

Fischer, S., R.K. Barnes en S. Kilpatrick. 2019. Equipping parents to support their children’s higher education aspirations: A design and evaluation tool. Educational Review, 71(2):198–217. https://www.tandfonline.com/doi/abs/10.1080/00131911.2017.1379472?journalCode=cedr20 (11 Mei 2021 geraadpleeg).

Francis, B., J. Hodgen, N. Craig, B. Taylor, L. Archer, A. Mazenod, A. Tereshchenko en P. Connolly. 2019. Teacher “quality” and attainment grouping: The role of within-school teacher deployment in social and education inequality. Teaching and Teacher Education, 77:183–92. https://doi.org/10.1016/j.tate.2018.10.001 (10 Oktober 2020 geraadpleeg).

Gonzalez, L.M. 2015. Barriers to college access for Latino/a adolescents: A comparison of theoretical frameworks. Journal of Latinos and Education, 14(1):320–34.

Gorard, S., B.H. See en P. Davies. 2012. The impact of attitudes and aspirations on educational attainment and participation. Joseph Rowntree Foundation. https://jrf.org.uk/publications/aspirations-educational-attainment-participation (10 Oktober 2020 geraadpleeg).

Green, G.J.C. en P. Elmore. (reds.). 2006. Handbook of complementary methods in education research. Mahwah: Erlbaum.

Groenewald, E.M. 2012. Die aard van jeugdiges se subjektiwiteite by ’n skool in ’n plattelandse mynbou-omgewing. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Hart, A., C. Stubbs, S. Plexousakis, M. Georgiadi en E. Kourkoutas. 2015. Aspirations of vulnerable young people in foster care. STYLE Working Papers, WP9.3. CROME, University of Brighton. https://www.style-research.eu/wp-content/uploads/2015/11/D_9_3_Aspirations_of_vulnerable_youth_in_foster_care_FINAL.pdf (11 Mei 2021 geraadpleeg).

Hart, C.S. 2016. How do aspirations matter? Journal of Human Development and Capabilities, 17(3):324–41.

Holland, N.E. 2017. Beyond conventional wisdom: Community cultural wealth and the college knowledge of African American youth in the United States. Race, Ethnicity and Education. 20(6):796–810. DOI:10.1080/13613324.2016.1150823.

Joorst, J. 2015. Towards a “self-schooled” habitus: High school students’ educational navigations in an impoverished rural West Coast township. Southern African Review of Education, 21(2):53–68.

Khampirat, B. 2020. The relationship between paternal education, self-esteem, resilience, future orientation, and career aspirations. PLOS One, 15(12):e0243283. https://doi.org/10.1371/journal.pone.0243283 (10 Oktober 2020 geraadpleeg).

Khattab, N. 2015. Students’ aspirations, expectations and school achievement: What really matters? British Educational Research Journal, 41(5):731–48.

Kim, J. 2016. Understanding narrative inquiry. Londen: Sage.

Mertens, D. 2015. Research methods in education and psychology: Integrating quantitative and qualitative approaches. 4de uitgawe. Thousand Oaks: Sage.

Miller, A. 2019. (Re)conceptualizing family-school partnerships with and for culturally and linguistically diverse families. Race, Ethnicity and Education, 22(6):746–66. https://doi.org/10.1080/13613324.2019.1599339 (10 Oktober 2020 geraadpleeg).

Mobley, C. en C. Brawner. 2019. “Life prepared me well for succeeding”: The enactment of community cultural wealth, experiential capital, and transfer student capital by first-generation engineering transfer students. Community College Journal of Research and Practice, 43(5):353–69.

Moletsane, R. 2012. Repositioning educational research on rurality and rural education in South Africa: Beyond deficit paradigms. Perspectives in Education, 30(1):1–8.

Morrow, V. 2013. Whose values? Young people’s aspirations and experiences of schooling in Andhra Pradesh, India. Children & Society, 27(4):258–69. https://doi.org/10.1111/chso.12036 (10 Oktober 2020 geraadpleeg).

Mosavel, M., R. Ahmed, K. Ports en C. Simon. 2015. South African, urban youth narratives: Resilience within community. International Journal of Adolescence and Youth. 20(2):245–55. DOI:10.1080/02673843.2013.785439.

Nkambule, T. 2014. Against all odds: The role of “community cultural wealth” in overcoming challenges as a black African woman. South African Journal of Higher Education, 28(6):1999–2012.

Pérez II, D. 2017. In pursuit of success: Latino male college students exercising academic determination and community cultural wealth. Journal of College Student Development, 58(2):123–40.

Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing. 2005. Emerging voices: A report on education in rural communities. Kaapstad: RGN Drukkers.

Smith, L. 2011. Experiential “hot” knowledge and its influence on low-SES students’ capacities to aspire to higher education. Critical Studies in Education, 52(2):165–77. https://doi.org/10.1080/17508487.2011.572829 (11 Mei 2021 geraadpleeg).

Smith, B. en A.C. Sparkes (reds.). 2016. Routledge handbook of qualitative research in sport and exercise. Londen: Routledge.

Somers, M. 1992. Narrativity, narrative identity, and social action: Rethinking English working-class formation. Social Science History, 16(4):591–630.

—. 1994. The narrative constitution of identity: A relational and network approach. Theory and Society, 23(5):605–49.

Somers, M. en G. Gibson. 1994. Reclaiming the epistemological “other”: Narrative and the social constitution of identity. Social Theory and the Politics of Identity, 16(3):205–15.

St Clair, R. en A. Benjamin. 2011. Performing desires: The dilemma of aspirations and educational attainment. British Educational Research Journal, 37(3):501–17.

Stevenson, A. (red). 2010. Oxford dictionary. New York: Oxford University Press.

Tracy, S. 2020. Qualitative research methods. Collecting evidence, crafting analysis, communicating impact. New York: Wiley Blackwell.

Vijayendra, R. en M. Walton (reds.). 2004. Culture and public action. Stanford: Stanford University Press.

Yosso, T.J. 2005. Whose culture has capital? A critical race theory discussion of community wealth. Race, Ethnicity and Education, 8(1):69–91.

Yosso, T.J. en D.G. Garcia. 2007. “This is no slum!” A critical race analysis of community cultural wealth in culture clash’s “Chaves Ravine”. Aztlan: A Journal of Chicano Studies, 32(1):145–79.

Zipin L., S. Sellar, M. Brennan en T. Gale. 2015. Educating for futures in marginalized regions: A sociological framework for re-thinking and researching aspirations. Educational Philosophy and Theory, 47(3):227–46. http://dx.doi.org/10.1080/00131857.2013.839376 (10 Oktober 2020 geraadpleeg).

 

Eindnota

1 In postapartheid-Suid-Afrika gebruik Suid-Afrikaners die rassekategorieë swart, wit of bruin om na hulself te verwys. Bongani het die kategorie bruin gebruik om te verwys na mense tussen wie hy grootgeword het.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Die teenwerking van leerderuitdagings in ’n plattelandse skool: aspirasionele kapitaal as navigasiemiddel appeared first on LitNet.


Die uitsluiting van middellike aanspreeklikheid van werkgewers in vrywaringsklousules

$
0
0

Die uitsluiting van middellike aanspreeklikheid van werkgewers in vrywaringsklousules

Karin Calitz, Departement Handelsreg, Universiteit Stellenbosch

LitNet Akademies Jaargang 18(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

In hierdie artikel word aan die hand gedoen dat vrywaringsklousules wat middellike aanspreeklikheid van ’n werkgewer uitsluit, in sekere omstandighede as teen die openbare beleid gesien kan word. Sedert 1999 het buitelandse en Suid-Afrikaanse howe beslis dat die beleidsoorwegings van veral afskrikking van die werkgewer en ’n billike remedie vir die slagoffer onderliggend is aan die oplegging van middellike aanspreeklikheid. In die geval van opsetlike onregmatige gedrag van werknemers kan werkgewers ook aanspreeklik wees indien daar ’n voldoende noue verband tussen die onregmatige handeling en die pligte van die werknemer was. Wanneer middellike aanspreeklikheid in ’n vrywaringsklousule uitgesluit word, is die vraag of beginsels van openbare beleid wat in die deliktereg aanwending vind, ook die reëls van die kontraktereg wat bepaal wanneer ’n vrywaringsklousule gehandhaaf behoort te word, kan informeer. ’n Ontleding van uitsprake van die Konstitusionele Hof toon dat openbare beleid wat by die kontraktereg berus op billikheid, geregtigheid en redelikheid, ’n noue ooreenkoms toon met konsepte onderliggend aan openbare beleid in die deliktereg. In die lig hiervan is dit aangewese dat howe gemeenregtelike kontraktuele beginsels met betrekking tot handhawing van vrywaringsklousules in die lig van die Grondwet ontwikkel om beleidsoorwegings onderliggend aan middellike aanspreeklikheid in te sluit. Die verhoogde risiko wat ’n werkgewer in ’n gemeenskap skep met die bedryf van ’n onderneming behoort by die ontwikkeling van sodanige reëls in ag geneem te word. Daar word verder aan die hand gedoen dat howe gevolg moet gee aan die gemeenregtelike reël dat vrywaringsklousules eng geïnterpreteer moet word. Wyd bewoorde klousules wat middellike aanspreeklikheid vir opsetlike gedrag slegs by implikasie uitsluit, behoort ook met omsigtigheid hanteer te word deur die ware bedoeling van partye by kontraksluiting vas te stel eerder as om ’n streng pacta sunt servanda-benadering te volg.

Trefwoorde: afskrikking; beleidsoorwegings; boni mores; diensverhouding; middellike aanspreeklikheid; noueverbandtoets; opsetlike onregmatige gedrag; remedie vir slagoffers; vrywaringsklousules; Wet of Verbruikersbeskerming

 

Abstract

The exclusion of vicarious liability of employers in exemption clauses

May employers exclude their vicarious liability for their employees’ unlawful conduct by way of exemption clauses? The established common-law rules applicable to the enforcement of exemption clauses provide that these clauses must be narrowly interpreted: in the case of justus error, the exemption clause will not be enforced; if there is ambiguity, the clause must be interpreted against the proferens and finally a clause that is against public policy will not be enforced. This article argues that in light of the development of the doctrine of vicarious liability, excluding vicarious liability in an exemption clause should in certain circumstances be regarded as against public policy.

The common-law doctrine of vicarious liability of employers was developed and extended in a watershed judgment of the Supreme Court of Canada in Bazley v Curry. In this case, the court extended the vicarious liability of employers by moving away from the requirement that unlawful conduct of employees must be within the scope of their employment. The court instead adopted the sufficiently close connection test which requires a close connection between the unlawful act and the duties of the employee. Employers could in terms of this test be held liable for intentional unlawful conduct by an employee which was not possible under the scope of the employment test. The risk (created by the employer by entrusting certain duties to the employee) that the unlawful conduct could take place, was held to be an important factor in establishing whether there was a sufficiently close connection to establish vicarious liability. The court acknowledged that the doctrine of vicarious liability is anchored in public policy; furthermore that the two most important public policy considerations were seen as a fair remedy for the victim and as a deterrent for employers in that employers would, to avoid possible liability, take measures to ensure that an unlawful act would not take place. The South African Constitutional Court in K v Minister of Safety and Security developed the doctrine of vicarious liability in light of constitutional principles and held the Minister of Police liable in terms of the close connection test for the intentional unlawful conduct of police officers.

It is submitted that given the important policy considerations of fair compensation for victims and deterrence of employers underlying the doctrine of vicarious liability, it could in certain circumstances be against the public interest and thus the boni mores to enforce an exemption clause that excludes vicarious liability. To establish whether this argument is valid, this article briefly discusses two Constitutional Court decisions that dealt with the enforcement of contractual clauses in which the parties argued that upholding these clauses would be against the boni mores. In Barkhuizen v Napier the court elucidated that the boni mores is the general sense of justice of the community, which recognises the need to do simple justice between contracting parties. This concept encompasses fairness, justice and reasonableness. In Beadica 231 CC v Trustees for the time being of the Oregon Trust, the Constitutional Court held that although pacta sunt servanda is not “a relic of the past”, parties can indicate the specific instances why a specific contract is contrary to the boni mores. If the court then finds that the contract is so unfair, unreasonable or unjust that it is contrary to public policy, it will be held to be unenforceable. I agree with Davis J in Mort NO v Henry Shields Chiat. He argued that the concepts underlying boni mores in the law of delict are similar to the principles of good faith in the law of contract and can inform the concepts of fairness, justice and reasonableness underlying public policy in the law of contract.

Most past judgments dealing with exemption clauses excluding vicarious liability, notably Goodman Brothers (Pty) Ltd v Rennies Group Ltd, Afrox Health Care v Strydom and First National Bank of SA Ltd v Rosenblum (Rosenblum), leaned towards a strict pacta sunt servanda approach. Some judgments, inter alia Rosenblum, further held that broadly phrased, all-inclusive and non-specific exemption clauses could also include intentional unlawful conduct by employees, although not specifically mentioned in the exemption clause. These judgments did not give effect to the common-law principle that exemption clauses should be narrowly interpreted. However, in Hotels, Inns & Resorts v Underwriters at Lloyds (Hotels) the court held that the parties’ intention should be taken into account when interpreting an exemption clause and that it is untenable to hold that parties intended to conclude an exemption clause excluding liability for acts that goes to “the root of the contract”.

The question of whether a broadly formulated exemption clause should be enforced in the case of theft of goods by an employee of a company to whom goods were entrusted, came to the fore in Fujitsu Services Core (Pty) Limited v Schenker South Africa (Pty) Limited (Fujitsu). The exemption clause excluded damages resulting from a negligent act of “whatsoever nature” and “howsoever arising” by Schenker and its employees unless the claim arose at a time when the goods were in the actual custody of Schenker and under its actual control. The court firstly established whether Schenker was vicariously liable by applying the close connection test and held that the risk that Schenker created by giving authority to their employee forged a close connection to hold Schenker vicariously liable.

The next question was whether the exemption clause excluded Schenker’s liability. The court affirmed that exemption clauses should be interpreted narrowly and further followed Hotels in that there cannot be reliance on an exemption clause where the contract was not being executed, except when it was the explicit intention of the parties. The court emphasised that the intention of parties should always be established, not only where there is ambiguity. The court found that the goods were not under the control of Schenker when it was stolen and for that reason the exemption clause did not cover the theftuous conduct of the employee. It is suggested that the approach in Fujitsu, in which the court narrowly interpreted the exemption clause and took the intention of the parties into account, is the correct approach.

The Consumer Protection Act 68 of 2008 (CPA) is relevant in this context since it protects consumers by limiting their suppliers’ reliance on exemption clauses in certain circumstances. Importantly section 51(1)(c)(i) provides that suppliers or their employees may not be exempted from gross negligence or on conditions that are unfair, unreasonable or unjust. Section 49 provides that contracts that limit the risk of suppliers where the risk is unexpected must be brought to the attention of the consumer. This section does not afford broad protection, since as soon as the risk is pointed out to the consumer, the supplier is exempted. However, consumers can then still argue that the exemption clause is unfair, unreasonable or unjust in terms of section 52(3). Certain clauses excluding the risk of the supplier are further contained in a so-called grey list in the regulations to the act in that there is a presumption that such clauses are not fair and reasonable in terms of section 44(1). The list includes an exemption for injury or death of a person and clauses exempting an employer for the vicarious liability of its employee. The presumption can of course be rebutted by the supplier. Section 113 under the heading “vicarious liability” provides that if an employee is liable in terms of the CPA for conduct in the course of the employee’s employment, the employee will be jointly and severally liable with their employer. This section only pertains to conduct that relates to the CPA. The CPA thus provides only limited protection to consumers against the exclusion of vicarious liability in exemption clauses.

It is recommended that courts should, in dealing with exemption clauses excluding vicarious liability, adhere to the common-law rule that exemption clauses should be narrowly interpreted; apply the contra proferentem rule in broadly phrased exemption clauses; and establish the intention of parties especially where non-performance goes to the root of the contract. Further, exemption clauses not specifically excluding intentional conduct should not be interpreted to cover intentional conduct and even where intentional conduct is explicitly included in exemption clauses, courts should not automatically give effect to such clauses, but should consider whether it is against public policy to enforce such a clause. Ultimately courts should in light of the importance of policy considerations underlying vicarious liability, develop the rules of the common law of contract in terms of section 39(2) of the Constitution. These policy considerations should inform the law of contract regarding rules for the enforcement of exemption clauses which exclude vicarious liability.

Keywords: boni mores; close connection test; Consumer Protection Act; deterrence; employment relationship; exemption clauses; intentional unlawful conduct; policy considerations; remedy for victims; unlawful conduct; vicarious liability

 

1. Inleiding

Kan werkgewers hul middellike aanspreeklikheid vir die onregmatige gedrag van hul werknemers kontraktueel uitsluit? Die ontwikkeling van middellike aanspreeklikheid van werkgewers gedurende die afgelope twee dekades (wat wyer aanspreeklikheid as in die verlede meegebring het) het vrae laat ontstaan of sodanige aanspreeklikheid deur middel van vrywaringsklousules uitgesluit kan word. Die rol van beleidsoorwegings by die ontwikkeling van middellike aanspreeklikheid en die moontlike impak daarvan op die geldigheid van vrywaringsklousules wat middellike aanspreeklikheid uitsluit, word in hierdie artikel onder die loep geneem. Wyd bewoorde vrywaringsklousules wat nie spesifiek aanspreeklikheid vir die opsetlike gedrag van werknemers uitsluit nie, maar deur die howe geïnterpreteer is om dit wel te doen, word ook teen die agtergrond van die ontwikkeling en die rasionaal vir middellike aanspreeklikheid ontleed. Antwoorde op vrae wat deur hierdie kwessies geopper word, kan moontlik by die kruispunt tussen die kontrakte- en deliktereg gevind word. Die onlangse saak, Fujitsu Services Core (Pty) Limited v Schenker South Africa (Pty) Limited (Fujitsu),1 wat afwyk van vorige beslissings, bring hierdie kwessies na vore.

Die ontwikkeling van die toets vir middellike aanspreeklikheid gedurende die afgelope dekades word kortliks in die tweede afdeling bespreek, terwyl die derde afdeling die huidige posisie met betrekking tot vrywaringsklousules in die Suid-Afrikaanse reg ontleed. Aangesien howe dieselfde beginsels op vrywaringsklousules as op ander kontraktuele bedinge toepas om te bepaal of dit gehandhaaf sal word, oorweeg die vierde afdeling die omstandighede waarin kontraktuele bedinge op grond van die openbare beleid deur howe as ongeldig beskou word. Die vyfde afdeling oorweeg die impak van die openbare beleid op vrywaringsklousules wat middellike aanspreeklikheid uitsluit en fokus op gronde waarop die howe hierdie tipe klousules óf gehandhaaf, óf ongeldig verklaar het. Fujitsu, in welke saak die hof moes beslis of ’n wyd bewoorde vrywaringsklousule middellike aanspreeklikheid vir opsetlike gedrag uitsluit, word in afdeling ses bespreek. In afdeling sewe word die impak van die Wet op Verbruikersbeskerming 68 van 2008 op vrywaringsklousules en middellike aanspreeklikheid bespreek, gevolg deur aanbevelings en die gevolgtrekking in afdeling agt.

 

2. Die ontwikkeling van middellike aanspreeklikheid

Middellike aanspreeklikheid is skuldlose aanspreeklikheid en daar bestaan verskeie teorieë vir die regverdiging van hierdie leerstuk wat indruis teen die wyd aanvaarde reël dat daar in die algemeen geen aanspreeklikheid sonder skuld sal wees nie.2 Ingevolge die gemenereg kon werkgewers tot onlangs slegs middellik aanspreeklik gehou word vir skade wat deur die onregmatige dade van hul werknemers veroorsaak is, indien sodanige handeling binne die bestek en loop van die werknemers se diensbetrekking plaasgevind het.3 Die redes vir oplegging van middellike aanspreeklikheid behels onder andere dat werkgewers van werknemers se dienste gebruik maak om hul besigheid te bedryf;4 dat dit ’n billike remedie vir die slagoffer verseker; dat die werkgewer afgeskrik sal word deur die oplegging van sodanige aanspreeklikheid en dan stappe sal doen om te voorkom dat so ’n handeling weer plaasvind; die groter finansiële vermoë van die werkgewer as dié van die werknemer wat die onregmatige daad gepleeg het (vir doeleindes van vergoeding vir die slagoffer);5 die vermoë van die werkgewer om die risiko te versprei deur pryse van produkte te verhoog en versekering uit te neem;6 en die risiko wat die werkgewer in die gemeenskap plaas deur sy besigheid te bedryf.7

Die toepassing van die reël waar skade deur blote nalatige optrede van werknemers veroorsaak is, is minder gekompliseerd. Nietemin het howe vroeër, in sake waar werknemers van hul pligte afgewyk het (die sogenaamde “deviation cases”, veral dié waar hulle in hul eie belang opgetree het), dit meestal as buite die loop en bestek van hierdie werknemers se diensbetrekking gesien. In sulke gevalle is middellike aanspreeklikheid nie opgelê nie.8

In ’n waterskeidingsaak is die noueverband- (of “close connection”) toets deur die Hoogste Hof van Kanada (HHK) in Bazley v Curry (Bazley)9 ontwikkel om werkgewers aanspreeklik te hou in gevalle waar daar ’n noue verband tussen die opsetlike onregmatige handeling van hul werknemer en die onderneming was. In hierdie saak het die hof afgewyk van die sogenaamde Salmond-reël wat bepaal dat werkgewers slegs aanspreeklik gehou kan word vir die onregmatige en ongemagtigde dade van hul werknemers indien die dade ’n ongeoorloofde wyse was om die werknemer se take uit te voer.10 Die Bazley-saak het egter die standpunt ingeneem dat daar nie in hierdie semantiek vasgeval behoort te word nie, maar dat howe die besluit of die werkgewer aanspreeklik gehou moet word, eerder as ’n beleidsbesluit behoort te hanteer met betrekking tot welke party die skade behoort te dra – die onskuldige slagoffer of die onskuldige werkgewer.11 Veral twee van die beleidsoorwegings wat hier bo genoem is, is deur die hof beklemtoon, naamlik billike vergoeding vir die slagoffer vir skade wat gely is, en die afskrikking (“deterrence”) van werkgewers wat daarop gemik is om werkgewers hul besighede só te laat bestuur dat daar die minimum risiko bestaan dat werknemers onregmatig sal optree.12 Die hof beklemtoon verder dat die oplegging van middellike aanspreeklikheid ook billik teenoor die werkgewer moet wees: “Where vicarious liability is not closely and materially related to a risk introduced or enhanced by the employer, it serves no deterrent purpose and relegates the employer to the status of an involuntary insurer.”13

Die volgende faktore is in Bazley as deurslaggewend beskou om te besluit of daar ’n voldoende noue verband tussen die werknemer se pligte en die handeling wat die oplegging van middellike aanspreeklikheid billik sou maak, bestaan:

  • die weerloosheid van die slagoffer;
  • die mate waartoe die werkgewer ’n gesagsposisie aan die oortreder toegeken het wat mag oor die slagoffer verleen het;
  • die mate waartoe wrywing in die onderneming tot die wandade kon gelei het; en
  • die mate waartoe die werkgewer se onderneming by die wandade kon baat.14

Die hof bevind dat daar in Bazley ’n risiko geskep is deur die pligte van die huisvader wat kinders moet bad en in die bed moet sit en dat die dade tydens die uitvoering van hierdie pligte plaasgevind het. Daar was dus ’n voldoende noue verband tussen die dade van die werknemer en sy pligte (die besigheid van die werkgewer) om die werkgewer aanspreeklik te hou.15

Die kriteria in Bazley is ook gevolg in Jacobi v Griffiths (Jacobi)16 maar met ’n ander uitkoms. In hierdie geval word beslis dat daar nie ’n voldoende noue verband tussen die dade en pligte van ’n organiseerder van aktiwiteite vir ’n jeugklub was wat kinders buitens klubure en by sy huis seksueel aangerand het nie. Die rol van die werknemer het nie ingehou dat daar fisieke intimiteit tussen hom en die kinders aangemoedig is of outoriteit aan hom toegesê is soos aan die huisvader in Bazley nie.17

Die Kanadese beslissings het weerklank gevind in ander gemenereg-jurisdiksies, onder andere in die Verenigde Koninkryk en Australië asook in Suid-Afrika, en het die ontwikkeling van middellike aanspreeklikheid in hierdie lande in wisselende mate beïnvloed. In die Verenigde Koninkryk het die House of Lords die ontwikkeling in Lister v Hesley Hall (Lister)18 gevolg waarin die feite ’n merkwaardige ooreenkoms met Bazley getoon het. Bazley en Lister het wel gehandel oor seksuele teistering van kinders, maar die beginsels vir die oplegging van middellike aanspreeklikheid wat in hierdie sake neergelê is, is ook in ’n kommersiële konteks, naamlik in Dubai Aluminium v Salaam,19 gevolg.

In Suid-Afrika is die noueverbandtoets, gekoppel aan die ondernemingsrisiko wat deur die werkgewer geskep is, vir die eerste keer in Grobler v Naspers (Grobler)20 gevolg. In dié saak is ’n sekretaresse deur haar bestuurder seksueel geteister. Die hof het die werkgewer middellik aanspreeklik gehou vir die opsetlike gedrag van die bestuurder. Alhoewel die werkgewer in appèl nie middellik aanspreeklik gehou is nie maar wel op grond van nalatigheid (Media 24 v Grobler),21 is die beslissing wat in Grobler op middellike aanspreeklikheid gebaseer is, nie omvergewerp nie.

Die Konstitusionele Hof het in K v Minister of Safety and Security (K)22 in die geval van die verkragting van ’n vrou deur polisielede (wat aan diens was) die gemeenregtelike reëls vir middellike aanspreeklikheid ontwikkel deur die noueverbandtoets in Bazley en Lister teen die agtergrond van grondwetlike waardes te volg:

If one looks at the principle of vicarious liability through the prism of section 39(2) of the Constitution, one realises that characterising the application of the common-law principles of vicarious liability as a matter of fact untrammelled by any considerations of law or normative principle cannot be correct. … Given the clear policy basis of the rule as well as the fact that it is a rule developed and applied by the courts themselves, such an approach cannot be sustained under our new constitutional order.23

Die Konstitusionele Hof het voortgebou op die toets wat in Rabie v Minister of Police (Rabie)24 toegepas is. In daardie saak het die Appèlhof die Minister van Polisie aanspreeklik gehou vir die opsetlike onregmatige arrestasie van ’n persoon deur ’n polisiebeampte wat nie aan diens was nie. Die hof bevind dat daar ’n voldoende noue verband tussen die werknemer se handelinge in sy eie belang en die besigheid van sy werkgewer was.25 In Rabie is met goedkeuring verwys na ’n vroeëre Suid-Afrikaanse saak, naamlik Feldman (Pty) Ltd v Mall (Feldman)26 wat die basis vir middellike aanspreeklikheid van ’n werkgewer gesien het as die risiko van skade vir ander indien die werknemer nalatig, onbekwaam of onbetroubaar is:

[A] master who does his work by the hand of a servant creates a risk of harm to others if the servant should prove to be negligent or inefficient or untrustworthy; that, because he has created this risk for his own ends he is under a duty to ensure that no one is injured by the servant’s improper conduct or negligence in carrying on his work and that the mere giving by him of directions or orders to his servant is not a sufficient performance of that duty. It follows that if the servant’s acts in doing his master’s work or his activities incidental to or connected with it are carried out in a negligent or improper manner so as to cause harm to a third party the master is responsible for that harm.27

Die Konstitusionele Hof in K het egter nie die ondernemingsrisiko, soos gevolg is in Bazley, Jacobi, sekere uitsprake van regters in Lister, asook in Feldman en Grobler, in ag geneem by die toets of daar ’n noue verband is nie. Die grondwetlike pligte van die polisie en grondwetlike regte van die slagoffer en die vertroue wat die polisiemag by die publiek kweek om hul werk te kan doen, is onder andere in ag geneem by die vraag of daar ’n noue verband is.28 Dit wil voorkom of die vertroue in polisielede wat by die publiek aangemoedig is en as faktor in die oplegging van middellike aanspreeklikheid in ag geneem is, tog verwant is aan die beginsel van ondernemingsrisiko.

Die ontwikkeling van middellike aanspreeklikheid in K is onder andere gevolg in F v Minister of Safety and Security (F)29 en Booysen v Minister of Safety and Security (Booysen).30 Hierdie sake het gehandel oor middellike aanspreeklikheid van die minister vir opsetlike dade van polisielede waardeur dood of besering veroorsaak is. Die grondwetlike regte van die slagoffers en die grondwetlike pligte van die polisiebeamptes, asook die vertroue van die slagoffers in die polisiebeamptes, was deurslaggewend vir die beslissing of die minister aanspreeklik gehou moet word of nie. In Booysen was dit duidelik dat die vertrouensfaktor by die bepaling van middellike aanspreeklikheid vir opsetlike onregmatige gedrag aanleiding gegee het tot geforseerde toepassings. Daar word aan die hand gedoen dat ondernemingsrisiko ’n suiwerder basis vir die oplegging van middellike aanspreeklikheid bied.

In teenstelling met die sogenaamde “polisiesake” hier bo, is ondernemingsrisiko in E v Ikwezi Municipality (E)31 beklemtoon as ’n faktor om te bepaal of die werkgewer middellik aanspreeklik gehou behoort te word. In dié saak is ’n werknemer van ’n munisipaliteit seksueel geteister deur ’n mede-werknemer wat in ’n gesagsposisie teenoor haar gestaan het. Die hof bevind dat die werkgewer ’n risiko daargestel het deur die teisteraar in ’n gesagsposisie oor die slagoffer aan te stel. Die oplegging van middellike aanspreeklikheid sal volgens die hof (wat in dié opsig met goedkeuring na Bazley verwys) die werkgewer aanspoor om maatreëls teen sulke gedrag te tref.32

Die beginsel van ondernemingsrisiko het ook ’n prominente rol gespeel in Stallion Security (Pty) Limited v Van Staden (Stallion).33 Hier het die hof ’n sekuriteitsmaatskappy middellik aanspreeklik gehou vir die finansiële skade van die eggenote van ’n persoon wat deur ’n veiligheidswag werksaam by Stallion vermoor is. Die veiligheidswag was hoof van sekuriteit en het onbeperkte toegang gehad tot die hele gebou wat hy moes beveilig en was, wat sy toegang betref, aan geen toesig onderworpe nie. Die bevoegdheid wat aan hom gegee is, het hom in staat gestel om die kantoor van die oorledene binne te gaan en hom ongesiens na buite te dwing om te gaan geld trek. Hy het hom daarna vermoor by ’n plek weg van die kantoorblok. Ten spyte van die feit dat die sekuriteitswag met siekteverlof was en dus nie aan diens was nie en die misdaad buite die kantoorblok wat hy moes beveilig, gepleeg is, het die hof bevind dat daar ’n voldoende noue verband met sy pligte was om sy werkgewer middellik aanspreeklik te hou. Die hof bevind dat Stallion ’n risiko geskep het deur onbeperkte toegang aan die werknemer te verleen en dat dit die nodige noue verband met die besigheid geskep het.34 Stallion was volgens die hof kontraktueel verplig om die grondwetlike regte van Bidvest se werknemers met betrekking tot hul persoonlike veiligheid te beskerm.35

Die hof wys daarop dat risiko as ’n faktor wat kan dui op ’n voldoende noue verband tussen die handelinge van werknemers en hul pligte om middellike aanspreeklikheid aan die werkgewer op te lê, verder deur Suid-Afrikaanse howe ontwikkel behoort te word.36 Na aanleiding van Stallion argumenteer Neethling oortuigend dat ondernemingsrisiko die gepaste basis vir middellike aanspreeklikheid is, veral by opsetlike onregmatige gedrag waar die werknemer met gesag of vertroue beklee is.37 Ondernemingsrisiko as maatstaf vir die bepaling van middellike aanspreeklikheid is ook toegepas in Fujitsu38 waar middellike aanspreeklikheid deur ’n vrywaringsklousule uitgesluit is. In die volgende afdeling word vrywaringsklousules in die Suid-Afrikaanse reg bespreek.

 

3. Vrywaringsklousules in die Suid-Afrikaanse reg

Vrywaringsklousules of uitsluitingsklousules (“exemption clauses”) is kontraktuele bedinge waardeur die normale gemeenregtelike kontraktuele en deliktuele gevolge wat vir partye uit ’n spesifieke kontrak sou voortvloei, gewysig word.39 Dié soort bedinge kom dikwels voor in standaardkontrakte wat eensydig opgestel word.40 Die swakker party het gewoonlik die keuse om die vrywaringsklousule te aanvaar of nie die kontrak te sluit nie. In so ’n geval is vryheid van kontraktering slegs teoreties.41 Dit blyk duidelik uit die minderheidsuitspraak van regter Sachs rakende standaardkontrakte in Barkhuizen v Napier (Barkhuizen).42 Die party wat die handhawing van die vrywaringsklousule teenstaan, steun gewoonlik op deliktuele in plaas van kontraktuele aanspreeklikheid van die ander party, aangesien by ’n deliktuele eis (anders as by ’n eis wat op die kontrak gebaseer is) die bewyslas op die persoon val wat die vrywaringsklousule in stand wil hou.43

Uit die aard van die saak lei die handhawing van ’n vrywaringsklousule tot nadelige gevolge vir die party wat nou nie meer op die normale gemeenregtelike remedies geregtig is nie. So ’n party kan op verskillende gronde (wat hier onder bespreek word) steun om te argumenteer dat howe nie die vrywaringsklousule behoort te handhaaf nie.

Eerstens kan justus error deur ’n party opgewerp word om te toon dat daar nie wilsooreenstemming was nie, veral indien ’n beding onverwags in ’n kontrak van ’n sekere aard is en dit nie onder die party se aandag gebring is nie.44 Die klaer in Afrox Healthcare Bpk v Strydom (Afrox)45 het in die hof beweer dat hy nie die kontrak gelees het nie en nie ’n klousule verwag het waarin die hospitaal hulself vrywaar teen aanspreeklikheid vir nalatigheid van personeel wat juis mediese sorg moet verskaf nie. Die hof bevind egter dat die vrywaringsklousule nie onverwags was in hierdie tipe kontrak soos Strydom beweer het nie, en dat die hospitaal geen plig gehad het om die klousule onder sy aandag te bring nie.46 Indien ’n persoon ’n kontrak onderteken het, geld die caveat subscriptor-reël; dus − al beweer die persoon dat sy dit nie gelees het nie − sal sy daaraan gebonde wees tensy die hof bevind dat daar justus error was.

Naudé en Lubbe47 stem nie saam dat die spesifieke vrywaringsklousule in Afrox nie onverwags in ’n kontrak met ’n hospitaal is nie en voer aan dat dit aan die pasiënt uitgewys moes word. Die skrywers se standpunt is in ooreenstemming met die uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl in Mercurius Motors v Lopez SA (Mercurius).48 In dié saak is ’n motor gesteel wat vir herstel by Mercurius gelaat is. Mercurius beweer dat hulle weens ’n vrywaringsklousule nie aanspreeklik is nie. Die hof waarsku dat “[a]n exemption clause … that undermines the very essence of the contract of deposit, should be clearly and pertinently brought to the attention of a customer”.49 Die Wet op Verbruikersbeskerming wat in werking getree het nadat hierdie sake beslis is, bevestig die gemeenregtelike reël deur in artikel 49 te bepaal dat ’n vrywaringsklousule wat onverwags in ’n sekere tipe kontrak is, onder die verbruiker se aandag gebring moet word.

Tweedens is dit ’n gevestigde gemeenregtelike reël dat ’n vrywaringsklousule beperkend uitgelê moet word.50 In Hotels het die hof ’n beperkende uitleg gevolg wat behels het dat die bewoording van die kontrak in die lig van die omstandighede geïnterpreteer is om die bedoeling van partye vas te stel.51 In hierdie geval bevind die hof, omdat die kontrak spesifiek gesluit is om brande en skade aan hotelle in die groep te voorkom, dat die vrywaringsklousule nie sonder meer geïnterpreteer kan word om aanspreeklikheid vir opsetlike brandstigting deur die verskaffer van sekuriteitsdienste uit te sluit nie. Daar moet aanduidings wees dat dit die bedoeling van die partye was.

’n Beperkende uitleg is ook gevolg in Drifter’s Adventure Tours v Hircock (Drifters)52 waar die klaer beseer is in ’n motorongeluk terwyl die voertuig deur ’n werknemer van Drifters bestuur is. Die hof het nie die wye algemene uitsluiting van aanspreeklikheid aanvaar nie. Aanspreeklikheid vir beserings en skade is volgens die vrywaringsklousule uitgesluit weens die spesifieke omstandighede in derdewêreldlande, maar die botsing waarin die eiser beseer is, was op ’n teerpad en die hof beslis dat die besering dus nie opgedoen is in omstandighede wat op derdewêreldlande betrekking het nie.53 Die beperkende uitleg wat die hof gevolg het, is te verwelkom.

Derdens moet howe, indien daar dubbelsinnigheid is, die klousule teen die proferens uitlê, veral waar die vrywaringsklousule wyd bewoord is.54 In Pall SA (Pty) Limited v Group 4 Falck Security Services (Pty) Limited (Pall)55 vertolk die hof egter die wyd bewoorde vrywaringsklousule om ook opsetlike onregmatige gedrag van werknemers by die vrywaring in te sluit, al is dit nie spesifiek genoem nie. In Durban’s Water Wonderland (Pty) Ltd v Botha (Wonderland)56 het die hof die standpunt ingeneem dat indien die bewoording van die vrywaringsklousule duidelik is en daar geen dubbelsinnigheid is nie, sal die hof daaraan gevolg gee en sal die contra proferentem-reël nie toegepas word nie.57 Hierdie siening word in Fujitsu gekritiseer.58

Vierdens kan ’n party wie se regte in die vrywaringsklousule beperk word, aanvoer dat die spesifieke beding teen die openbare beleid is.59 Die maatstaf vir die bepaling van wanneer ’n beding teen die openbare beleid sal wees, word vervolgens in afdeling vier in meer detail bespreek.

 

4. Bedinge teen die openbare beleid

Kontraktante wie se gemeenregtelike remedies deur ’n vrywaringsklousule wat hulle aangegaan het, beperk is, sal dikwels van mening wees dat die handhawing van die klousule onbillikheid tot gevolg het. Dit is egter duidelik dat howe nie bloot sal bevind dat omdat so ’n party ontbering (“hardship”) ondervind, kontrakte (insluitend vrywaringsklousules) teen die openbare beleid en dus onafdwingbaar sal wees nie. In Sasfin (Pty) Ltd v Beukes (Sasfin)60 het die hof die volgende waarskuwing gerig: “One must be careful not to conclude that a contract is contrary to public policy merely because its terms (or some of them) offend one’s individual sense of propriety and fairness.” Ter stawing van die standpunt haal die hof die woorde van Lord Atkin61 aan: “[T]he doctrine should only be invoked in clear cases in which the harm to the public is substantially incontestable, and does not depend upon the idiosyncratic inferences of a few judicial minds.”62

In Sasfin het die hof ’n kontrak wat die effek gehad het dat Beukes alle boekskulde aan Sasfin moet sedeer, as teen die openbare belang en daarom teen die openbare beleid verklaar, aangesien Beukes van al sy en sy familie se inkomste en ondersteuningsbronne ontneem kon word:

He would, to that extent, virtually be relegated to the position of a slave, working for the benefit of Sasfin … [A]n agreement having this effect is clearly unconscionable and incompatible with the public interest, and therefore contrary to public policy.63

Wat die inhoud van openbare belang en openbare beleid buite die spesifieke feite van die saak is, word egter nie verder in Sasfin ondersoek nie.

’n Party wat veronreg voel, sou moontlik wou steun op gebrek aan goeie trou om te argumenteer dat ’n klousule nie gehandhaaf behoort te word nie. Oor die verband tussen die begrippe goeie sedes en goeie trou merk regter Davis in Mort NO v Henry Shields Chiat (Mort)64 as volg op:

Like the concept of boni mores in our law of delict, the concept of good faith is shaped by the legal convictions of the community … Parties to a contract must adhere to a minimum threshold of mutual respect in which the ‘unreasonable and one-sided promotion of one’s own interest at the expense of the other infringes the principle of good faith to such a degree as to outweigh the public interest in the sanctity of contracts.’ … In accordance with its constitutional mandate the courts of our constitutional community can employ the concept of boni mores to infuse our law of contract with this concept of bona fides. [Verwysings weggelaat.]65

Hierdie siening dat die boni mores (regsoortuiging van die gemeenskap), wat die maatstaf vir onregmatigheid by delikte is, aangewend kan word om bona fides (goeie trou) in die kontraktereg te ontwikkel ten einde grondwetlike waardes te weerspieël, is nie deur die meerderheid in die Hoogste Hof van Appèl in Brisley v Drotsky (Brisley)66 aanvaar nie. Appèlregter Harmse vir die meerderheid maak korte mette met die argument van regter Davis en beklemtoon dat daar ’n groot verskil is tussen die reëls van die deliktereg waar partye nie vooraf hul verhouding reël nie en die kontraktereg waar dit wel die geval is. Hy waarsku verder dat goeie trou nie op sy eie toegepas kan word om te bepaal of ’n kontrak tersyde gestel moet word nie, aangesien die beginsel van pacta sunt servanda verontagsaam sal word en indien regters hul eie diskresie oor die inhoud van goeie trou gebruik, sal dit tot regsonsekerheid lei.67 Waarnemende appèlregter Cameron (wat in ’n afsonderlike uitspraak met die meerderheidsbeslissing saamstem) gee sterker steun aan die konsep van openbare beleid om vryheid van kontrak in die lig van die Grondwet te begrens.68

In Afrox noem die hof omstandighede waarin ’n vrywaringsklousule (uitsluitingsklousule) teen die openbare belang geag sal word:

Die maatstaf wat aangewend word met betrekking tot uitsluitingsklousules verskil egter nie van dié wat geld vir ander kontraksbedinge wat, na bewering, weens oorwegings van openbare belang ongeldig is nie. Die vraag is telkens of die handhawing van die betrokke uitsluitingsklousule of ander kontraksbeding, hetsy weens uiterste onbillikheid, hetsy weens ander beleidsoorwegings, met die belange van die gemeenskap strydig sal wees.69

Die hof erken dat ’n ongelyke bedingingsposisie wel ’n faktor is wat in ag geneem kan word om te bepaal of ’n kontrak teen die openbare belang is. In hierdie saak het die hof egter beslis dat die pasiënt wat ’n vrywaringsklousule geteken het waarin die hospitaal hulself vrywaar van aanspreeklikheid vir nalatigheid, nie in ’n ongelyke bedingingsposisie was nie. Uit bogenoemde aanhaling blyk duidelik dat Afrox70 wel ruimte laat dat bedinge wat teen die openbare belang is nie gehandhaaf word nie, maar dat ’n streng benadering wat pacta sunt servanda vooropstel, steeds gevolg is.71

Die rol van die Grondwet in die bepaling van wanneer ’n kontrak teen die openbare beleid sal wees, is breedvoerig deur die Konstitusionele Hof in Barkhuizen72 onder oë geneem. In die saak is bevind dat die openbare beleid berus op beginsels van billikheid, geregtigheid en redelikheid wat in die Grondwet gekodifiseer is en verder dat die openbare beleid vereis dat partye gehou sal word aan kontrakte wat hulle vrywillig aangegaan het. So ’n benadering bevestig volgens die hof die grondwetlike waardes van vryheid en menswaardigheid wat onderliggend is aan die bevoegdheid van indiwidue om self hul sake (selfs tot hul eie nadeel) te reël,73 maar dat ’n beding wat volgens die bewoording daarvan of by uitvoering daarvan indruis teen die openbare beleid nie deur howe gehandhaaf sal word nie.74

Volgens die Konstitusionele Hof behels openbare beleid die volgende:

Public policy imports the notions of fairness, justice and reasonableness. Public policy would preclude the enforcement of a contractual term if its enforcement would be unjust or unfair. Public policy, it should be recalled “is the general sense of justice of the community, the boni mores, manifested in public opinion.” … As has been observed, while public policy endorses the freedom of contract, it nevertheless recognises the need to do simple justice between the contracting parties. To hold that a court would be powerless in these circumstances would be to suggest that the hands of justice can be tied; in my view, the hands of justice can never be tied under our constitutional order.75

Met die verwysing na die openbare beleid as die regsgevoel van die gemeenskap (boni mores) wat berus op billikheid, geregtigheid en redelikheid wat aangewend moet word om vas te stel of ’n kontraktuele beding gehandhaaf moet word, kom regter Ngcobo baie na daaraan om die stelling van regter Davis in Mort te onderskryf, naamlik dat die boni mores openbare beleid by die beginsels van goeie trou in die kontraktereg kan informeer.

In ’n minderheidsuitspraak in Barkhuizen haal regter Sachs wel regter Davis se obiter dictum in Mort met goedkeuring aan. Hy kritiseer die oorheersende rol wat deur howe aan pacta sunt servanda toegeken word76 en wys daarop dat daar in die afgelope dekades ’n groter rol toegesê is aan die vasstelling van ware konsensus tussen partye. Die klemverskuiwing is volgens hom teweeggebring deur die groter belang van die staat en die gemeenskap in die regulering van privaat reëlings tussen partye. Die implikasie is dat kontrakte nie meer net vir die betrokke partye van belang is nie, maar dat die publiek belang het by die gevolge van reëlings tussen partye omdat dit hulle kan raak.77

Hierdie siening van regter Sachs is belangrik vir die argument in hierdie artikel dat gemeenskapsoortuigings (boni mores) wat by die oplegging van middellike aanspreeklikheid van toepassing is (veral vergoeding van die slagoffer en afskrikking van die werkgewer) die belange van die gemeenskap raak en daarom in aanmerking geneem moet word by die besluit of ’n kontrak afgedwing moet word of nie.

Louw78 deel regter Sachs se siening met betrekking tot die oordrewe beklemtoning van pacta sunt servanda en merk tereg as volg op:

[T]he explanation for this elevated status of certainty in the law of contract is the courts’ inapt over-emphasis on the intention of the parties and the protection of their expectations in terms of pacta sunt servanda, while failing to sufficiently realise the legal convictions of the community in determining the parameters within which those expectations should be protected by law.79

Die Konstitusionele Hof het in 2020 in Beadica 231 CC v Trustees for the time being of the Oregan Trust (Beadica)80 uitspraak gegee oor die gewaande teenstrydigheid in die beslissings van dié hof en die Hoogste Hof van Appèl met betrekking tot die wisselwerking tussen pacta sunt servanda en die openbare beleid. Die Konstitusionele Hof beklemtoon dat pacta sunt servanda geensins ’n uitgediende regsreël is nie omdat dit die grondslag vorm vir regsekerheid en ekonomiese aktiwiteite,81 maar dat die reël nie bo ander grondwetlike waardes verhewe is nie.82 Met verwysing na Sasfin verklaar die hof dat uitsprake dat kontrakte net in uitsonderlike omstandighede nie afgedwing sal word nie, nie as ’n skild gebruik behoort te word vir kontrakte wat die doelstellings van die Grondwet verydel nie, maar dat ’n party wat aanvoer dat ’n kontraktuele beding strydig met die openbare beleid is, moet aantoon waarom dit in die spesifieke omstandighede die geval is. Goeie trou, billikheid en redelikheid is nie vrystaande waardes wat ’n hof as maatstaf kan gebruik om nie ’n kontrak te handhaaf nie: “It is only where a contractual term, or its enforcement, is so unfair, unreasonable or unjust that it is contrary to public policy that a court may refuse to enforce it.”83 Hier onder sal geargumenteer word dat riglyne wat die Wet op Verbruikersbeskerming in artikel 48 neerlê om te bepaal of ’n klousule onbillik, onredelik en onregverdig is, ook deur howe aangewend kan word om te bepaal of bedinge teen die boni mores is waar die wet nie van toepassing is nie.

In ’n minderheidsuitspraak in Beadica is regter Froneman van mening dat idees van billikheid, geregtigheid, gelykheid en redelikheid nie van die openbare beleid geskei kan word nie. Openbare beleid behels “[t]he necessity to do simple justice between individuals. Public policy is informed by the concept of ubuntu”.84 Die regter is van mening dat die ongelykheid in die bedingingsmag van die partye (konsessiehouers en konsessiegewer in hierdie geval) en die disproporsionele nadeel wat die konsessiehouers in die spesifieke saak ly, die gevolg het dat handhawing van die kontrak teen die openbare beleid is.85 Hy is verder van mening dat die meerderheidsbeslissing in Beadica (wat inhou dat goeie trou nie ’n onafhanklike grond vir ongeldigverklaring van ’n kontrak is nie) die vordering om die openbare beleid met grondwetlike waardes te informeer, ’n tree teruggeneem het. Hy wys daarop dat Barkhuizen die deur in dié verband oopgehou het.

Die beginsel van goeie trou as vrystaande grond vir beoordeling daarvan of ’n kontrak in stand gehou behoort te word, soos bepleit deur Louw en Barnard-Naudé,86 asook deur regters Davis in Mort, Froneman in Beadica en Sachs in Barkhuizen, is dus nie in Beadica aanvaar as ’n onafhanklike grond vir tersydestelling van ’n kontrak nie. In die lig van die beslissing in Beadica sal persone wat ’n vrywaringsklousule ontken, moet aantoon waarom die vrywaringsklousule in die spesifieke omstandighede teen die openbare beleid sal wees.

Faktore wat moontlik kan aantoon dat ’n vrywaringsklousule teen die openbare beleid is, is ’n ongelyke bedingingsposisie (selfs in die geval van twee korporatiewe kontraktante, soos uitgelig in die minderheidsuitsprake van regter Sachs in Barkhuizen en regter Froneman in Beadica), en in geval van uiterste onbillikheid87 teenoor die kontraktant wie se remedies uitgesluit word. Daar word verder aan die hand gedoen dat die uitsluiting van middellike aanspreeklikheid van werkgewers in die lig van die beleidsoorwegings van billike vergoeding vir die slagoffer en afskrikking van die werkgewer tot gevolg kan hê dat die handhawing van die klousule teen die openbare beleid kan wees. Soos regter Sachs in Barkhuizen aangetoon het, het die gemeenskap en staat toenemend ’n belang by die gevolge van privaat reëlings tussen partye.88

 

5. Openbare beleid en vrywaringsklousules wat middellike aanspreeklikheid uitsluit

In hierdie afdeling bespreek ek ’n paar hofbeslissings waar die uitsluiting van middellike aanspreeklikheid in vrywaringsklousules ter sake was. Die fokus is op gevalle waar daar opsetlike onregmatige gedrag aan die kant van die werknemer was, alhoewel skade veroorsaak deur die nalatige gedrag van werknemers ook vermeld word.

Die vraag of persoonlike aanspreeklikheid vir opsetlike onregmatige gedrag in ’n vrywaringsklousule uitgesluit kan word, het in Wells v South African Alumentite Co (Wells)89 voorgekom. In dié saak het die hof beslis dat ’n vrywaringsklousule wat ’n kontraksparty teen sy eie bedrieglike optrede vrywaar, op grond van die openbare beleid nie gehandhaaf sal word nie. Stoop merk tereg op dat die uitspraak die implikasie het dat dit ook teen die openbare beleid is vir ’n party om aanspreeklikheid vir opsetlike kontrakbreuk of ander opsetlike gedrag deur die party self in ’n vrywaringsklousule uit te sluit.90

Na aanleiding van bogenoemde ontstaan die vraag of ’n vrywaringsklousule wat ’n werkgewer teen opsetlike onregmatige gedrag van ’n werknemer vrywaar ook teen die openbare beleid sal wees. Daar is sake waar die stelling gemaak is dat so ’n klousule nie teen die openbare beleid is nie, behalwe waar die werkgewer self voordeel uit die gedrag van die werknemer trek.91

Die benadering in Government of the Republic of South Africa v Fibre Spinners & Weavers (Pty) Ltd (Fibre Spinners)92 was dat opsetlike onregmatige gedrag van werknemers wat graansakke gesteel het wat in Spinners se bewaring gehou is, nie kon lei tot aanspreeklikheid vir Spinners nie. Die kontrak het ’n wyd bewoorde vrywaringsklousule bevat wat bepaal het dat indien Spinners versekering sou uitneem, hulle gevrywaar sal wees van enige verantwoordelikheid vir verlies of skade “howsoever arising”. Die hof aanvaar nie die argument dat hierdie vrywaringsklousule geen beskerming bied teen nalatigheid, growwe nalatigheid of kontrakbreuk omdat hierdie handelinge nie spesifiek genoem word nie. Die hof se siening is duidelik dat die werkgewer ook nie vir opsetlike gedrag van werknemers aanspreeklik gehou kan word nie. Die saak is weliswaar beslis voor die uitbreiding van middellike aanspreeklikheid van werkgewers om in sommige omstandighede ook opsetlike onregmatige gedrag in te sluit. Die hof bevind dat daar geen dubbelsinnigheid in die bewoording van die wyd geformuleerde vrywaringsklousule is nie en dat dit dus nie nodig is om die contra proferentem-reël toe te pas nie.93

In Goodman Brothers (Pty) Ltd v Rennies Group Ltd (Goodman)94 beslis die hof eweneens dat Rennies nie aanspreeklik is vir diefstal (gepleeg deur hul eie werknemers) van die goedere van Goodman wat in Rennies se bewaring was nie, aangesien Rennies se aanspreeklikheid deur die omvattende bewoording van ’n vrywaringsklousule uitgesluit is, alhoewel nie uitdruklik nie. Die vrywaringsklousule lui dat Rennies nie aanspreeklikheid vir waardevolle items aanvaar tensy vooraf skriftelike reëlings getref is nie.95 Die wyd bewoorde uitsluitingsklousule in hierdie saak lui as volg:

The company shall be under no liability whatsoever whether on the grounds of breach of contract or negligence or otherwise, in respect of any type of loss or damage, howsoever arising, and whether in respect of or in connection with any goods or any instructions, business, advice, information, services or otherwise unless it is proved that the loss or damage was caused by the gross negligence of the company.96

Rennies vrywaar hulself dus spesifiek teen nalatigheid (behalwe ingeval Goodman spesiale reëlings sou tref), maar nie teen growwe nalatigheid nie. Die vraag voor die hof was of die bewoording van die uitsluiting geïnterpreteer kon word om ook opsetlike onregmatige gedrag van Rennies se werknemers (wat juis die goedere moes bewaar) uit te sluit. Die hof bevind dat daar geen rede is waarom dit nie gedoen kan word nie en stem nie saam met die argument van Christie97 dat die aangewese wyse vir werkgewers om hulself te beskerm teen oneerlikheid van werknemers is om self versekering uit te neem en nie om die risiko op kliënte te laai nie.98

Die hof interpreteer die vrywaringsklousule letterlik en bevind dat die frase “no liability whatsoever” presies beteken wat dit sê. Die hof is dus nie van mening dat daar dubbelsinnigheid of vaagheid is nie, selfs in die lig daarvan dat die wye bewoording nie die spesifieke risiko, naamlik opsetlike onregmatige gedrag in die vorm van diefstal deur werknemers, uitsluit nie. Die hof bevind verder dat die argument dat hier fundamentele kontrakbreuk was en dat die klousule om daardie rede teen die openbare beleid is, voorheen deel van die Engelse reg gevorm het, maar dat dit nie deel uitmaak van die Suid-Afrikaanse reg nie.99 Oor die vraag of die beperking van hierdie risiko teen die openbare beleid is, verklaar waarnemende regter-president Flemming dat “public policy does not require that such re-arrangement of risk should fall away because the theftuous frolic of the thief happens in a setting of employment but with no reasons for recrimination against and no causation in the role of the employer”.100

Dit is duidelik dat die verwysing na “frolic of the thief” dateer uit die tydperk voor die uitbreiding van middellike aanspreeklikheid van werkgewers om, waar ’n voldoende noue verband tussen die opsetlike onregmatige gedrag van werknemers en die besigheid bestaan, die werkgewer middellik aanspreeklik te hou.

Dit is betekenisvol dat regter Flemming wel die moontlikheid ooplaat dat die openbare beleid met verloop van tyd kan verander aangesien die implikasies van opsetlike gedrag nog nie volledig geargumenteer is nie. Steun op hierdie tipe vrywaringsklousule sou volgens die hof moontlik in die toekoms gesien kon word as teen die openbare beleid:

Because public policy can alter in the course of time, because it is not possible to foresee and to cope with all possible variations of fact and because intentional conduct and the like has not been the subject of full argument or of authoritative decision, I prefer not to deal with anything more than an application of present public policy to the facts of this case. … What will public policy be in a decade hence? As guidelines become recognisable from a succession of future cases, it may well prove to be the true answer that … unenforceability arises from the reliance on a defence in circumstances wherein it is the reliance which is opprobrious to public policy.101

Moontlik is die punt tans, 24 jaar na hierdie uitspraak, bereik dat vrywaring teen middellike aanspreeklikheid vir opsetlike gedrag in die lig van die ontwikkeling van middellike aanspreeklikheid as onvanpas en teen die openbare beleid beskou kan word. In Goodman het Rennies nie die voordeel van die opsetlike gedrag (diefstal) geniet nie en is hulle om daardie rede nie aanspreeklik gehou nie.

Goodman is gevolg in FNB v Rosenblum First National Bank of SA Ltd v Rosenblum (FNB)102. Die hof het in die saak ook ’n vrywaringsklousule ten gunste van die werkgewer gehandhaaf by diefstal van ’n kluiskissie (“safety deposit box”) van ’n kliënt deur werknemers van FNB. Die kluiskissie moes volgens ooreenkoms deur die bank in veilige bewaring gehou word. Die vrywaringsklousule lui as volg:

The Bank hereby notifies all its customers that while it will exercise every reasonable care, it is not liable for any loss or damage caused to any article lodged with it for safe custody whether by theft, rain, flow of storm water, wind, hail, lightning, fire, explosion, action of the elements or as a result of any cause whatsoever, including war or riot damage, and whether the loss or damage is due to the Bank’s negligence or not.

Diefstal deur die bank se eie werknemers word nie spesifiek in die vrywaringsklousule ingesluit nie. Die hof gee toe dat dit moontlik teen die openbare beleid kan wees as die werkgewer self teen opsetlike gedrag gevrywaar word. Maar in hierdie geval “[t]he liability is only vicarious and the bank itself (as represented by its controlling or directing minds) has not committed theft or otherwise been guilty of wilful misconduct”. Om daardie rede en omdat die bank nie voordeel uit die diefstal deur hul werknemers put nie, is die vrywaringsklousule volgens die hof nie teen die openbare beleid nie en word die vrywaringsklousule gehandhaaf.103

Alhoewel die hof in FNB erkenning gee dat die Grondwet en gemenereg in aanmerking geneem moet word by interpretasie van die vrywaringsklousule,104 handhaaf die hof ’n formalistiese benadering, naamlik dat die bewoording van die klousule die deurslag gee. Ironies genoeg sluit die bewoording nie opsetlike gedrag by die vrywaring in nie. Die hof regverdig die interpretasie dat dit wel ingesluit is as volg:

It is perhaps necessary to emphasise that the task is one of interpretation of the particular clause and that caveats regarding the approach to the task are only points of departure. In the end the answer must be found in the language of the clause read in the context of the agreement as a whole in its commercial setting and against the background of the common law and, now, with due regard to any possible constitutional implication.105

Die wye vrywaringsklousule word dus deur die hof geïnterpreteer om ook aanspreeklikheid vir opsetlike gedrag van werknemers uit te sluit. Die beginsels van beperkende uitleg by vrywaringsklousules, middellike aanspreeklikheid vir opsetlike gedrag van werknemers, die contra proferentem-reël wat toepaslik is by dubbelsinnige kontrakte en ’n waarskynlik ongelyke bedingingsposisie van die individuele kliënt teenoor die kommersiële bank (wat die effek sou hê dat handhawing van die kontrak teen die openbare beleid sou wees) is nie in die beslissing in ag geneem nie. Soortgelyke sake kan ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming wat na die beslissing in die saak in werking getree het moontlik anders beslis word omdat kontraktante soos die Rosenblums as verbruikers ingevolge die wet beskerm sal word.

Indien die openbare beleid nie in ag geneem word by ’n beslissing dat ’n werkgewer nie aanspreeklik gehou word vir ’n handeling van sy/haar werknemer nie, kan dit teen die openbare belang wees. Daar sal moontlik nie aansporing wees om skade te voorkom nie, omdat die werkgewer versekering kan uitneem en pryse verhoog wat tot nadeel van die gemeenskap sal wees. In die geval van opsetlike onregmatige gedrag is dit verder moontlik dat indien die gedrag ’n misdaad daarstel, dit nie met die nodige erns deur die werkgewer bekamp sal word as die werkgewer nie aanspreeklik gehou word nie, met ernstige gevolge vir die gemeenskap.

Alhoewel daar geen klinkklare verband is nie, ontstaan die vraag tog of die feit dat FNB nie in 2001 aanspreeklik gehou is vir die diefstal van hul kliënt se kluiskissie nie, moontlik verband hou met latere diefstal van kluiskissies van kliënte waarby FNB se werknemers oënskynlik betrokke was. In 2017 was daar 60 kliënte wat R121 miljoen van FNB geëis het vir skadevergoeding vir kluiskissies wat vermoedelik met medewerking van FNB-werknemers by drie takke gesteel is. FNB beweer weereens dat hulle op grond van ’n vrywaringsklousule nie aanspreeklik is nie. Regsverteenwoordigers van die kliënte van FNB wat skade gely het, voer aan dat FNB weens artikel 51 van die Wet op Verbruikersbeskerming (wat aanspreeklikheid vir growwe nalatigheid uitsluit en hier onder bespreek word) nie hul aanspreeklikheid mag uitsluit nie.106 Daar is nog nie uitsluitsel in die saak gegee nie.107

In teenstelling met die beslissings in Goodman en FNB het die hof in Hotels, Inns & Resorts v Underwriters at Lloyds (Hotels)108 nie die vrywaringsklousule waar skade deur die opsetlike handeling van ’n werknemer veroorsaak is, gehandhaaf nie. Die hotelgroep het ’n kontrak met ’n sekuriteitsmaatskappy gesluit met die spesifieke doel om brande en brandskade te voorkom. Die vrywaringsklousule in die kontrak het gelui dat die sekuriteitsmaatskappy “shall not be liable for loss or damage sustained from whatsoever cause”.109 Die hof beslis in die lig daarvan dat die sekuriteitsmaatskappy uitsluitlik aangestel is om brande en skade te minimaliseer (“the sole function of the security services and security personnel provided by the company (FEND) is to minimise the loss or damage by fire”,110 en aangesien juis een van hul sekuriteitswagte ’n vuur in die hotel begin het, raak dit die kerndoel van die kontrak (“goes to the root of the contract”).111 Die hof bevind dat die argument dat dit die bedoeling van die partye was dat die sekuriteitsmaatskappy gevrywaar word teen skadevergoeding vir fundamentele kontrakbreuk soos om brand te stig, onhoudbaar is.112 In soverre die sekuriteitsmaatskappy gevrywaar is teen aanspreeklikheid vir skadevergoeding “from whatsoever cause”, bevind die hof dat dit nie die bedoeling van die partye kon wees om vrywaring te verleen teen gedrag wat direk indruis teen die rede waarvoor die kontrak gesluit is nie, dat dit ’n bespotting van die kontrak sou maak en dat die sekuriteitsfirma dus kontrakbreuk gepleeg het.113

Die hof in Hotels benadruk dat die reël is dat vrywaringsklousules beperkend uitgelê moet word114 en haal die volgende paragraaf uit Christie aan, te wete dat “the law cannot stand aside and allow such traps to operate unchecked, and the Courts have protected the public from the worst abuses of exemption clauses by setting limits to the exemptions they will permit …”115

Hierdie siening blyk egter nie in een lyn te wees met vroeëre sake wat geen beperking geplaas het op vrywaring teen fundamentele kontrakbreuk nie. In Elgin Brown & Hamer (Pty) Ltd v Industrial Machinery Suppliers (Pty)Ltd116 beskou regter Hoexter hierdie as ’n argaïese reël wat uit die Engelse reg kom en selfs daar nie meer gehandhaaf word nie.117 Dus, in teenstelling met die standpunt van Naudé en Lubbe,118 het die howe beslis dat indien ’n vrywaringsklousule aanspreeklikheid vir fundamentele breuk uitsluit, die klousule wel gehandhaaf mag word indien dit duidelik genoeg bewoord is. Daar word aan die hand gedoen dat indien ’n vrywaringsklousule aanspreeklikheid uitsluit vir ’n handeling wat direk indruis teen die kerndoel van die kontrak, die howe die klousule beperkend behoort te interpreteer, vas te stel of dit die ware bedoeling van partye was om aanspreeklikheid uit te sluit en ook in ag te neem of die handhawing van die klousule teen die openbare beleid is.

Die uitspraak in Hotels is nie in Pall119 gevolg nie. Diewe het met behulp van een van die werknemers van die sekuriteitsmaatskappy wat Pall se gebou moes beveilig, goedere by Pall gesteel en ook die maatskappy se eiendom beskadig. Die sekuriteitsmaatskappy steun op die vrywaringsklousule wat as volg lui:

8.1 The sole function of the Services provided by the CONTRACTOR through the Security Personnel is to reduce the risk of loss or damage by theft, burglary, vandalism or arson.

8.2 The CONTRACTOR gives no warranty or guarantee that its Security Personnel will be able to reduce or prevent the loss and/or damage referred to in clause 8.1 above.

8.3 The CONTRACTOR shall not be liable to the CLIENT or any third party for any loss or damage of whatsoever nature and howsoever caused, whether direct or consequential, save where such loss or damage is proved to be as a result of gross negligence on the part of the CONTRACTOR or any of its Security Personnel acting within the course and scope of their employment with the CONTRACTOR. In such event the CONTRACTOR’S liability shall be restricted to three times the monthly contract price (as set out in clause 19 below or any amendment thereto) for any one event or series of events arising from one occurrence.

Pall SA het aangevoer dat Falck middellik aanspreeklik is vir die opsetlike gedrag van hul werknemer en dat indien dit nie so is nie, dit sal lei tot “absurdity, repugnance or inconsistency with the contract as a whole”.120 Vir hierdie standpunt steun hulle op Hotels.121

Die hof in Pall verklaar: “The golden rule of interpretation is to give the language of the document its grammatical and ordinary meaning unless this would lead to some absurdity or some repugnance or inconsistency with the rest of the instrument.” Die hof beklemtoon dit as volg:

[I]t is also important to bear in mind that there is no general rule that exemption clauses should be construed differently from other provisions in a contract but that where an exclusion clause limits or ousts common law rights the court should consider with great care the meaning of the clause, especially if it is very general in its application.

Die hof bevind dat daar geen dubbelsinnigheid in die bewoording is nie en dat die vrywaringsklousule alle deliktuele aanspreeklikheid (dus ook middellike aanspreeklikheid) uitsluit. Die hof kritiseer die ratio van die uitspraak in Hotels op grond daarvan dat die hof in daardie saak nie gebly het by die bewoording van die vrywaringsklousule nie. Die hof bevind verder dat die bewoording van die klousule baie duidelik slegs vir aanspreeklikheid vir growwe nalatigheid voorsiening maak en nie vir aanspreeklikheid vir opsetlike gedrag van ’n werknemer nie. Alhoewel die hof in Pall dus beklemtoon dat die uitsluitingsklousule beperkend en in die konteks van die kontrak as ’n geheel uitgelê moet word, is dit duidelik dat die hof die spesifieke bewoording van die vrywaringsklousule as die belangrikste faktor by uitleg ag. Desnieteenstaande word die wyd bewoorde klousule nie as dubbelsinnig beskou nie, selfs al sluit dit nie spesifiek aanspreeklikheid vir opsetlike onregmatige gedrag uit nie. Die hof sou op die minste hier kon vra na die bedoeling van die partye en probeer vasstel of daar werklik wilsooreenstemming was deur die contra proferentem-reël toe te pas.

’n Verdere uitvloeisel van die bostaande streng pacta sunt servanda-benadering van die hof is dat die belange van die kontraktant in wie se guns die vrywaringsklousule gesluit is, prioriteit geniet:

The respondent was not prepared to agree that its security personnel would be able to reduce or prevent the loss or damage referred to in clause 8.1 – it pertinently refused to give a warranty or guarantee to that effect. This can only be due to a concern about the security personnel – their possible incompetence and/or dishonesty and/or unreliability. The respondent must therefore protect itself against liability for damages caused by breach of contract and negligent and intentional delictual acts which could far exceed in value what the respondent receives for providing the service. Clearly that is why the parties agreed that the respondent’s liability for loss or damage caused by gross negligence would be limited to three times the monthly contract price.122

Die vraag is of ’n onderneming ’n sekuriteitsdiens moet aanbied as hulle soveel wantroue in hul eie personeel het. Die sekuriteitsmaatskappy se onderneming om veiligheidsdienste te verskaf, is dus (op die manier waarop die hof dit interpreteer) ’n leë dop wat inhou dat hulle glad nie aanspreeklik sal wees selfs waar werknemers direk teen die doel van die kontrak optree nie. Die hof noem dat die sekuriteitsmaatskappy hulself moet beskerm teen nalatige en opsetlike gedrag van hul werknemers. Is die wyse om dit te doen deur ’n vrywaringskontrak? Die beleidsoorwegings onderliggend aan die oplegging van middellike aanspreeklikheid word duidelik in die wiele gery met die handhawing van die vrywaringsklousule. Hierdie uitspraak hou geen aansporing in vir werkgewers wat betref aanstelling, opleiding en toesig oor werknemers om onregmatige handelinge en misdadige optrede te bekamp nie, en sou heel moontlik om dié rede gesien kon word as teen die openbare beleid. Die handhawing van die vrywaringsklousule kan ook gesien word as sou dit lei tot uiterste onbillikheid teenoor die een party soos in Afrox uitgewys en daarom weens beleidsoorwegings met die belange van die gemeenskap strydig is.123

Daar word aan die hand gedoen dat die benadering in Hotels die korrekte is, naamlik dat waar gedrag van werknemers direk in stryd met die kerndoel van die kontrak is en waar sulke aanspreeklikheid nie eksplisiet uitgesluit is nie, howe die bedoeling van partye behoort te ondersoek. Verkieslik behoort ’n benadering egter gevolg te word waar die uitsluiting van middellike aanspreeklikheid in gevalle van opsetlike onregmatige gedrag as teen die openbare beleid beskou word waar daar ’n noue verband tussen die onregmatige handeling en die spesifieke pligte van die werknemer is. Risikoskepping deur die werkgewer soos uiteengesit in Stallion en Fujitsu is ’n belangrike faktor wat kan aandui of daar wel so ’n noue verband bestaan.

In Afrox waar dit gegaan het oor vrywaring teen nalatigheid is daar belangrike beginsels met betrekking tot vrywaringsklousules neergelê. Soos hier bo genoem, het ’n pasiënt fisiese en finansiële skade gely weens die nalatigheid van ’n werknemer by ’n privaat hospitaal. Die hof bevestig die beginsel dat vrywaringsklousules beperkend uitgelê moet word124 en dat klousules wat strydig met die openbare belang is nie gehandhaaf sal word nie. Daar word verder beklemtoon dat die toets vir strydigheid met die openbare belang by vrywaringsklousules dieselfde is as vir enige ander klousule in ’n kontrak. Die vrywaringsklousule in Afrox lui as volg:

Ek onthef die hospitaal en/of sy werknemers en/of agente van alle aanspreeklikheid en ek vrywaar hulle hiermee teen enige eis wat ingestel word deur enige persoon (insluitende ’n afhanklike van die pasiënt) weens skade of verlies van watter aard ook al (insluitende gevolgskade of spesiale skade van enige aard) wat direk of indirek spruit uit enige besering (insluitende noodlottige besering) opgedoen deur of skade berokken aan die Pasiënt of enige siekte (insluitende terminale siekte) opgedoen deur die Pasiënt wat ook al die oorsaak/oorsake is, net met die uitsluiting van opsetlike versuim deur die hospitaal, werknemers of agente.

Die hof beslis dat hierdie vrywaringsklousule wat die pasiënt by opname geteken het, die hospitaal teen nalatigheid vrywaar, dat die vrywaringsklousule wyd genoeg is om selfs growwe nalatigheid in te sluit en dat so ’n bepaling nie contra bonos mores sou wees nie. Die hof beklemtoon dat die openbare belang vereis dat kontrakte nagekom moet word ingevolge die beginsel van pacta sunt servanda, maar gee wel erkenning daaraan dat die gemenereg in die lig van artikel 39(2) van die Grondwet ontwikkel moet word om grondwetlike waardes te weerspieël.125 Die hof aanvaar egter nie die argument dat vrywaring teen nalatigheid tot nalatige en onprofessionele gedrag sal lei nie,126 aangesien die hospitaal se reputasie onder nalatigheid van die personeel sal ly en verder dat mediese personeel aan die reëls van hul professionele liggaam gebonde is.127

Naudé en Lubbe wys daarop dat die beginsel pacta sunt servanda deur die hof in Afrox tot ’n konstitusionele waarde verhef word. Die skrywers toon verder aan dat die kontrak wat ’n pasiënt met ’n hospitaal sluit nie bloot ’n kommersiële transaksie is nie,128 en daarom behoort daar ander beginsels in sulke tipe transaksies te geld.

Christie129 maak die volgende opmerking: “It seems inevitable that the Constitutional Court will one day be asked to consider the decision in Afrox that it is not contrary to public policy for a private hospital to exempt itself from liability for negligence.”130

In die volgende afdeling word Fujitsu bespreek wat die kollig laat val op die toets vir middellike aanspreeklikheid by opsetlike onregmatige handelinge en ook die interpretasie van ’n vrywaringsklousule waarin so ’n handeling nie spesifiek uitgesluit is nie.

 

6. Fujitsu v Schenker

Fujitsu het Schenker gekontrakteer om die logistiek rondom die invoer van ’n besending rekenaars en rekenaartoerusting te reël, asook om die rekenaars by die lughawe af te haal, te vervoer en aan Fujitsu te besorg. Die nodige dokumente is deur Schenker aan hul motorbestuurder, Lerama, wat gereeld sulke take verrig het, verskaf. Hy was weens sy werk by Schenker ’n ou bekende by die vragafdeling van die SAL. Al het hy die betrokke dag ’n voertuig bestuur wat nie enige Schenker kentekens getoon het nie, het hy met die nodige dokumente in sy besit sonder moeite die vrag rekenaars gelaai en by die kontrolepunt uitgery om nooit weer gesien te word nie.131 Fujitsu eis skadevergoeding van Schenker, gebaseer op middellike aanspreeklikheid vir die opsetlike onregmatige daad van Schenker se werknemer. Schenker beweer egter dat hul aanspreeklikheid uitgesluit word deur ’n vrywaringsklousule in die kontrak met Fujitsu wat as volg lui:

[Schenker] shall not be liable for any claim of whatsoever nature (whether in contract or in delict) and whether for damages or otherwise, howsoever arising, … including any negligent act or omission or statement by [Schenker] or its servants, unless the claim arises from a grossly negligent act or omission on the part of Schenker or its servants and such claim arises at a time when the goods were in the actual custody of Schenker and under its actual control.132

Die hof bepaal eerstens of Schenker middellik aanspreeklik is en tweedens of sodanige aanspreeklikheid deur die vrywaringsklousule uitgesluit is.

Die hof bevind dat Schenker wel middellik aanspreeklik is in die lig van die ontwikkeling van die leerstuk in die Suid-Afrikaanse reg wat ten gevolg het dat in sogenaamde afwykingsgevalle (“deviation cases”) daar wel aanspreeklikheid kan wees as daar ’n noue verband tussen die handeling en die besigheid van die werknemer is.133 In hierdie geval het daar volgens die hof wel so ’n noue verband bestaan, wat onder andere teweeggebring is deur die ondernemingsrisiko wat deur Schenker daargestel is. Die hof verwys met goedkeuring na die uitspraak in Stallion, waar die vergroting van die risiko deur die werkgewer as ’n belangrike faktor beskou is in die bepaling daarvan of die werkgewer middellik aanspreeklik is of nie.134 Die oënskynlike regmatigheid wat aan Lerama se handeling verleen is, het die risiko vergroot dat die diefstal sou plaasvind. Die hof bevind dat die risiko in so ’n mate vergroot is dat daar ’n voldoende noue verband bestaan tussen die handeling van Lerama en die take wat aan hom opgedra is en dat sy werkgewer aanspreeklik gehou kan word.135 Die hof wys daarop dat, aangesien middellike aanspreeklikheid ontwikkel het om ook opsetlike gedrag in die sogenaamde afwykingsgevalle in te sluit, hofsake waarin aanspreeklikheid vir opsetlike gedrag ter sake was (by name Goodman) wat voor hierdie ontwikkeling beslis is, nie van toepassing is nie.136

Wat betref die tweede been van die ontleding wat gaan oor die geldigheid van die vrywaringsklousule, beklemtoon die hof dat dit ’n aanvaarde beginsel is dat vrywaringsklousules beperkend uitgelê moet word. Die hof verwys na die uitspraak in Hotels waar bevind is dat dit nie die bedoeling van partye kon wees dat ’n vrywaringsklousule aanspreeklikheid van ’n handeling van ’n werknemer wat lynreg bots met die kerndoel van die kontrak in stand moes hou nie.137 Die hof merk as volg op: “Therefore, as a general rule a defendant should not be allowed to rely on an exemption clause in the circumstance where the contract was not being executed, unless the clear intention of the parties was to such effect.”138

Wat betref die vraag of deliktuele aanspreeklikheid uitgesluit is, wys die hof daarop dat die beginpunt die bewoording van die vrywaringsklousule is, maar dat die Hoogste Hof van Appèl in verskeie sake deur die jare klem gelê het daarop dat die ware bedoeling van partye met ’n kontraktuele beding vasgestel moet word, soos weer onlangs in Novartis SA (Pty) Ltd v Maphil Trading (Pty) Ltd bevestig is.139

Na aanleiding van die beslissings in Bothma-Botha Transport (Edms) Bpk v S Bothma & Seun Transport (Edms) Bpk140 en North East Finance (Pty) Ltd v Standard Bank of South Africa Ltd141 maak die hof in Novartis die volgende stelling: “A court must examine all the facts – the context – in order to determine what the parties intended. And it must do that whether or not the words of the contract are ambiguous or lack clarity. Words without context mean nothing.”142 Hierdie dictum van die Hoogste Hof van Appèl is in teenstelling met die vroeëre uitspraak van dieselfde hof in Wonderland dat die bedoeling van partye slegs ondersoek moet word waar daar dubbelsinnigheid is.143

’n Argument kan dus uitgemaak word dat die beslissings in Goodman, FNB en Pall waar die bewoording verhef is tot die belangrikste maatstaf by vasstelling van die betekenis van vrywaringsklousules, nie in lyn met latere uitsprake van hierdie hof is nie. Waar vrywaring teen aanspreeklikheid vir ’n sekere handeling nie eksplisiet uitgesluit is nie, maar oënskynlik in ’n wye allesomvattende klousule, behoort howe in die lig van bogenoemde regspraak die konteks van die klousule asook eksterne faktore in ag te neem om die ware bedoeling van die partye vas te stel.

In Fujitsu word opgemerk dat daar nie getuienis voor die hof is van faktore waarvolgens die bedoeling van die partye vasgestel kan word nie. Dit laat dus net die bewoording van die klousule waaruit die bedoeling vasgestel kan word. In hierdie geval is aanspreeklikheid van Schenker vir opsetlike onregmatige gedrag nie spesifiek deur die wyd bewoorde vrywaringsklousule uitgesluit nie. Dit dui volgens die hof daarop dat dit nie die bedoeling van die partye kon wees dat aanspreeklikheid vir opsetlike onregmatige gedrag uitgesluit sou wees nie, anders sou hulle dit eksplisiet in die vrywaringsklousule genoem het.144 Fujitsu volg dus nie die uitsprake in FNB, Goodman en Pall nie maar wel die beslissing in Hotels. Die saak bring ’n verandering mee in die lyn van beslissings waar howe ’n pacta sunt servanda-benadering gevolg het, maar tog vrywaring vir opsetlike onregmatige handelinge in ’n wyd bewoorde klousule ingelees het sonder om die bedoeling van partye in ag te neem.

Die uitspraak in Fujitsu op hierdie punt is te verwelkom, maar die stelling dat partye opsetlike onregmatige gedrag van ’n werknemer kontraktueel mag uitsluit deur dit bloot eksplisiet te noem, moet met omsigtigheid benader word. Uitsluiting van opsetlike onregmatige gedrag van die kontraktant self kan in sommige omstandighede teen die openbare beleid wees weens die ontwikkeling van middellike aanspreeklikheid om ook opsetlike onregmatige gedrag van ’n werknemer in te sluit. Daar kan geargumenteer word dat wanneer sekere faktore aanwesig is, die handhawing van die vrywaringsklousule teen die openbare beleid sou kon wees. Hierdie faktore word hier onder in die aanbevelings en slot bespreek.

Aangesien die Wet op Verbruikersbeskerming beperkinge plaas op aanspreeklikheid wat in sekere omstandighede in vrywaringsklousules uitgesluit kan word en ook artikels bevat met betrekking tot die uitsluiting van middellike aanspreeklikheid, word die relevante artikels van die wet kortliks hier onder bespreek.

 

7. Wet op Verbruikersbeskerming 68 van 2008

Die doel van die wet is om verbruikers teen onbillike kontraksbedinge te beskerm. Die definisie van ’n verbruiker is ’n persoon aan wie spesifieke goedere of dienste in die gewone loop van die verskaffer se besigheid bemark is, of ten opsigte waarvan ’n persoon ’n ooreenkoms aangegaan het, of ’n persoon wat ’n gebruiker is van sekere goedere of dienste, onafhanklik daarvan of die persoon ’n ooreenkoms met die verskaffer aangegaan het. ’n Konsessiehouer (franchisee) kan in sekere omstandighede ook as ’n verbruiker kwalifiseer. ’n Verskaffer word gedefinieer as enige persoon wat goedere of dienste bemark.145

Die wet is nie van toepassing op verbruikers wat regspersone (ook vennootskappe en trusts) is met bates of ’n omset van bo die drempelbedrag wat van tyd tot tyd deur die minister ingevolge artikel 6 vasgestel word nie (tans R2 miljoen).146

Wat betref vrywaringsklousules bepaal artikel 48(1)(c) dat verskaffers nie by verskaffing van goedere of dienste mag vereis dat ’n verbruiker afstand doen van enige regte, of dat die verskaffer vrygestel word van enige aanspreeklikheid op voorwaardes wat onbillik, onredelik of onregverdig (“unfair, unreasonable or unjust”) is nie. Artikel 48(2) gee voorbeelde van bedinge wat as onbillik, onredelik of onregverdig beskou word. Dit sluit in bedinge wat oormatig eensydig is tot voordeel van die verskaffer en bedinge wat in so ’n mate tot nadeel van die verbruiker is dat dit “inequitable” is.147 Aangesien die betekenis van “inequitable” nie omskryf word nie, doen Mapangavanhu aan die hand dat howe die begrip doelmatig uitlê om voldoende beskerming aan verbruikers te bied.148

Artikel 49 vereis dat bepalings in ’n kontrak wat die risiko van ’n verskaffer beperk en ’n risiko vir ’n verbruiker inhou, op ’n duidelike wyse onder die verbruiker se aandag gebring moet word. In gevalle waar die risiko van ’n onverwagse aard is, of ’n klousule wat nie verwag sou word deur ’n normaal-waaksame verbruiker (“an ordinarily alert consumer”) nie, of die risiko van ernstige besering of dood inhou, moet die verskaffer die aard, moontlike gevolge en risiko onder die aandag van die verbruiker bring.149 Sulke klousules moet op ’n duidelik sigbare plek aangebring word en moet in eenvoudige taal (“plain language”) geskryf wees.150 Die verbruiker moet bewus gemaak word van die klousule voordat die ooreenkoms aangegaan word en daar moet genoeg tyd gelaat word vir die verbruiker om vertroud te raak met die inhoud. Die verbruiker moet instemming met die klousules toon deur die ooreenkoms te teken of te parafeer.151

In ’n beslissing waar die hof artikel 49 van die wet moes interpreteer, naamlik Van Wyk t/a Skydive Mossel Bay v UPS SCS South Africa (Pty) Ltd (Van Wyk),152 het die vrywaringsklousule gelui dat die verskaffer nie aanspreeklik is vir enige skade deur ’n derde wat deur die verskaffer gekontrakteer word om die kontrak uit te voer nie, selfs al betaal die verskaffer vir die derde se dienste.153 Die hof beslis dat omdat die vrywaringsklousule nie aan die verbruiker uitgewys is nie, dit onafdwingbaar is selfs al het die verbruiker die ooreenkoms onderteken. Al was die verbruiker ’n bestuurder van ’n onderneming wat volgens die verskaffer kundig moes gewees het aangaande sulke klousules, het die hof nogtans beslis dat die klousule onafdwingbaar ingevolge die wet is, aangesien sodanige klousule selfs vir ’n ervare persoon onverwags kon wees.154 Die hof wys daarop dat die wet tempering meebring in die ongenaakbaarheid van die formalistiese toepassing van die caveat subscriptor-reël soos in Afrox toegepas.

Naudé155 wys daarop dat artikel 49 ’n tweesnydende swaard kan wees. Indien die vrywaringsklousule onder die verbruiker se aandag gebring is, kan dit afgedwing word al is dit onbillik. Dit is veral problematies by uitsluiting van verantwoordelikheid vir dood of besering waar die verbruiker se liggaamlike integriteit op die spel is.156 In dié verband doen Mapangavanhu aan die hand dat artikel 51(1(c) gewysig word om ’n verbod te plaas op uitsluiting van aanspreeklikheid vir persoonlike besering en dood.157

Artikel 51(1)(c)(i) bepaal dat vrywaringsklousules wat growwe nalatigheid van die verskaffer of die verskaffer se werknemers uitsluit ongeldig sal wees. In FNB waar die diefstal van kluiskissies ter sprake was (sien hier bo), het die regsverteenwoordiger van die benadeeldes geargumenteer dat FNB grof nalatig was en dus deur hierdie artikel verbied word om op ’n vrywaringsklousule te steun.

Naudé toon aan dat hierdie artikel die gevaar kan inhou dat vrywaring teen gewone nalatigheid as aanvaarbaar gesien word. Nalatigheid kan egter steeds onder die algemene verbod op onbillike, onredelike of onregverdige kontrakte val.158

’n Verskaffer kan verder nie uit aanspreeklikheid vir eie bedrog of oneerlikheid kontrakteer nie.159 Ingevolge artikel 52(3) kan die hof ’n beding wat na die hof se mening gewetenloos, onbillik, onredelik en onregverdig is, ongeldig verklaar.

’n Sogenaamde “gryslys” van kontraktuele bedinge wat vermoed word onbillik en onredelik te wees, verskyn in regulasie 44 van die wet. Die feit dat dit net as vermoedelik onbillik beskou word, dui aan dat daar nie ’n verbod op so ’n klousule is nie en dat die verskaffer die vermoede kan weerlê. Die lys sluit klousules in wat bepalings bevat tot die effek dat die verskaffer nie aanspreeklik is vir dood of besering van die verbruiker nie (sien die standpunte van Naudé en Mapangavanhu hier bo); bedinge wat die verbruiker se regte en remedies beperk in geval van algehele of gedeeltelike versuim om verpligtinge ingevolge die kontrak na te kom; bedinge wat bepaal dat werkgewers nie middellik aanspreeklik vir die handelinge van hul werknemers is nie (gelees met artikel 113 van die wet), asook die wysiging van die normale reëls met betrekking tot die verspreiding van risiko tot nadeel van die verbruiker. Die laaste sinsnede verwys uit die aard van die saak na vrywaringsklousules.

Met betrekking tot middellike aanspreeklikheid bepaal artikel 113 dat indien ’n werknemer aanspreeklik is vir enige handeling of versuim ingevolge die wet in die loop van die persoon se diens of aktiwiteite namens die werkgewer, die werkgewer en werknemer gesamentlik en afsonderlik aanspreeklik sal wees, behalwe in die geval van strafregtelike aanspreeklikheid. Hierdie bepaling is net van toepassing op handelinge wat die wet oortree en nie op nalatige of opsetlike gedrag buite die wet nie. Die bepaling het dus geen invloed op die beperking van middellike aanspreeklikheid wat nie met die wet verband hou nie.

Besighede met bates of ’n omset van minder as R2 miljoen per jaar word ook deur die wet beskerm, aangesien sodanige besighede ook as verbruikers gesien kan word. Hierdie lae bedrag het tot gevolg dat talle klein besighede van beskerming uitgesluit is. Individue is normaalweg die mees kwesbare persone en hulle word inderdaad deur die wet beskerm, maar klein besighede is dikwels in ’n ongelyke bedingingsposisie waar ooreenkomste met groot besighede gesluit word. Die Departement van Kleinsakeontwikkeling het in Maart 2019 nuwe definisies met betrekking tot die omset vir mikro-, klein en mediumondernemings bekend gemaak. Die bedrae verskil vir verskillende sektore, maar die laagste omset vir ’n mikroönderneming is R5 miljoen in gemeenskaps-, sosiale en persoonlike diens.160 In die lig hiervan, behoort die drempelbedrag in die wet verhoog te word.

Vrywaringsklousules kan steeds teen verbruikers afgedwing word, solank die bepalings wat onverwags is onder hul aandag gebring word. Die situasie in Afrox kan dus herhaal word met ’n klein wysiging, die pasiënt moet slegs ingelig word dat hy nie skadevergoeding sal kan eis as hy sy ledemaat weens nalatigheid van ’n werknemer verloor nie. Dieselfde geld vir die feite in FNB. Die bank kan steeds die vrywaringsklousule in stand hou solank die party ingelig is met betrekking tot die vrywaringsklousule, alhoewel growwe nalatigheid nie uitgesluit mag word nie. In Afrox en FNB sou die benadeelde partye wel kon poog om ’n hof te oortuig dat die klousules ongeldig is omdat dit gewetenloos, onbillik, onredelik en onregverdig is. Die uitsluiting van gemeenregtelike remedies word verder vermoed onbillik te wees volgens die regulasies, soos hier bo uitgewys, maar die verskaffer sou dit kon weerlê. Die verbruiker sou moontlik kon aantoon dat die klousule so eensydig is dat die handhawing daarvan tot uiterste onbillikheid kon lei.161

Die wet bied dus wel verligting vir kontraktante wat in die verlede ernstig deur vrywaringsklousules benadeel is, maar dit is nie ’n kuur vir alle gevalle van ongelyke bedingingsposisies vir individue en ook kleiner besighede wat nie binne die definisie van verbruikers val nie. Selfs kontraktante wat nie binne die definisie van ’n verbruiker val nie en dus nie die beskerming van die wet geniet nie, sou wel kon argumenteer dat ’n bepaling gewetenloos, onbillik, onredelik en onregverdig is en daarom nie afdwingbaar is nie.

 

8. Aanbevelings en gevolgtrekking

Ingevolge die gemenereg kan werkgewers hul middellike aanspreeklikheid deur middel van vrywaringsklousules uitsluit. ’n Benadeelde party kan egter die handhawing van so ’n klousule op verskeie gronde in die hof aanveg. In hierdie bydrae word aangevoer dat die gronde waarop howe in die verlede vrywaringsklousules wat middellike aanspreeklikheid uitsluit, gehandhaaf het, dikwels teen die openbare beleid is. Die belangrikste beleidsoorwegings waarop die oplegging van middellike aanspreeklikheid berus, naamlik billike vergoeding vir die slagoffer en afskrikking van die werkgewer (om sodoende te verseker dat die werkgewer die nodige maatreëls in plek stel om ’n herhaling van die gedrag te verhoed), is nie in hierdie beslissings in ag geneem nie. Daar word aan die hand gedoen dat die boni mores wat die deliktereg informeer en middellike aanspreeklikheid van werkgewers ten grondslag lê, ook in ag geneem behoort te word by kontraktuele beginsels wat bepaal of hierdie tipe vrywaringsklousules gehandhaaf behoort te word.

In Bazley,162 Stallion163 en Fujitsu164 het die howe daarop gewys dat ’n verhoogde risiko wat deur ’n werkgewer geskep word ’n belangrike faktor by die beslissing is of middellike aanspreeklikheid opgelê behoort te word. Waar aanspreeklikheid opgelê word in ’n geval waar die werkgewer die risiko verhoog het, word die beleidsoorweging van afskrikking gedien. Waar die werkgewer se onderneming nie bygedra het tot verhoogde risiko nie, sal oplegging van middellike aanspreeklikheid nie die beleidsoorweging van afskrikking dien nie, aangesien die werkgewer nie maatreëls sal kan tref om ’n herhaling van die onregmatige gedrag te verhoed nie. Die beleidsoorwegings by oplegging van middellike aanspreeklikheid is van soveel belang vir die gemeenskap (dat slagoffers billik vergoed word en dat misdaad en onregmatige dade voorkom word), dat vrywaringsklousules wat middellike aanspreeklikheid uitsluit nie ligtelik deur howe afgedwing behoort te word nie. Die howe behoort die gemenereg in die lig van die Grondwet te ontwikkel om kriteria daar te stel vir die handhawing van vrywaringsklousules wat middellike aanspreeklikheid uitsluit. Die volgende verklaring van appèlregter Harms in Van Jaarsveld v Bridges165 is van belang in hierdie konteks:

Courts have not only the right but also the duty to develop the common law, taking into account the interests of justice and at the same time to promote the spirit, purport and objects of the Bill of Rights. In this regard courts have regard to the prevailing mores and public policy considerations.166

Daar word aan die hand gedoen dat howe die volgende faktore by die besluit of ’n vrywaringsklousule gehandhaaf behoort te word, in ag moet neem aangesien dit sal bydra om gevolg te gee aan die beleidsoorwegings onderliggend aan die oplegging van middellike aanspreeklikheid:

  • Daar behoort gehou te word by die gemeenregtelike reël dat vrywaringsklousules beperkend en teen die proferens uitgelê moet word, veral by wyd bewoorde klousules wat nie die spesifieke risiko beskryf nie.
  • Die bedoeling van partye met die vrywaringsklousule behoort in alle gevalle vasgestel te word en nie net waar daar ooglopende dubbelsinnigheid is nie.167
  • Waar daar vrywaring teen die kerndoel (essensie) van die kontrak is, behoort die hof selfs met groter omsigtigheid te werk te gaan om vas te stel of dit werklik die bedoeling van die partye was om vrywaring te verleen.168
  • Indien daar ’n ongelyke bedingingsposisie by kontraksluiting was, behoort die klousule nie in stand gehou te word nie. Selfs in die geval van twee korporatiewe partye behoort die reg op gelykheid te geld.169
  • Om ’n ongelyke bedingingsposisie met groter besigheidsentiteite te vermy, behoort die drempelbedrag in die Wet op Verbruikersbeskerming van R2 miljoen vir beskerming van juridiese persone verhoog te word.
  • Waar ’n werkgewer ’n verhoogde risiko geskep het en dit daartoe bygedra het dat onregmatige gedrag plaasgevind het,170 sal oplegging van middellike aanspreeklikheid die beleidsoorweging van afskrikking dien om werkgewers aan te spoor om maatreëls te neem om die onregmatige gedrag in die toekoms te verhoed.
  • Waar die Wet op Verbruikersbeskerming bepaal dat sekere vrywaringsklousules (soos wat onverwags in ’n kontrak is) afgedwing kan word nadat dit aan die verbruiker uitgewys is, behoort howe steeds in ag te neem of die klousule onbillik, onredelik, onregverdig of gewetenloos is. Klousules sal aan hierdie omskrywing beantwoord indien dit oormatig eensydig en teenstrydig met die belange van ’n party is.171 Sodanige klousules kan deur die hof ingevolge artikel 52 van die wet ongeldig verklaar word. Ook in sake waar die wet nie toepaslik is nie, kan hierdie kriteria aangewend word om te bepaal of die handhawing van ’n klousule teen die openbare beleid sal wees.
  • In die lig van die uitbreiding van middellike aanspreeklikheid van werkgewers om ook opsetlike onregmatige gedrag in te sluit, behoort wyd bewoorde vrywaringsklousules wat nie middellike aanspreeklikheid spesifiek uitsluit nie, nie geïnterpreteer te word om sodanige aanspreeklikheid uit te sluit nie.172
  • Waar aanspreeklikheid vir opsetlike onregmatige gedrag wel eksplisiet uitgesluit is, behoort howe nie outomaties daaraan gevolg te gee nie. Die openbare belang, gegrond in beleidsoorwegings onderliggend aan die oplegging van sodanige aanspreeklikheid, (dus die boni mores), behoort in aanmerking geneem te word in plaas daarvan om ’n formalistiese pacta sunt servanda-benadering te volg.

In Goodman het die hof wel toegegee dat die boni mores (hier in ’n kontraktuele konteks) met verloop van tyd kan verander. Daar kan geargumenteer word dat die boni mores met betrekking tot die oplegging van middellike aanspreeklikheid wel ontwikkel het om groter klem te lê op beleidsoorwegings onderliggend aan middellike aanspreeklikheid en ook om aanspreeklikheid vir opsetlike onregmatige handelinge aan werkgewers op te lê. Die vraag wat dan na vore kom, is of beleidsoorwegings wat geld vir die oplegging van middellike aanspreeklikheid (wat ’n deliktuele aangeleentheid is) die reëls van kontraktereg kan informeer of moet die twee streng geskei bly. Die dictum in Barkhuizen wat lui dat die openbare beleid soos in die Grondwet neergelê beginsels van billikheid, geregtigheid en regverdigheid inhou, is nie in Beadica weerspreek nie. Regter Ngcobo se dictum in Barkhuizen dat billikheid, geregtigheid en regverdigheid waardes is wat die boni mores informeer, saam met sy beklemtoning dat “justice must be done between man and man”, is kragtig en sny deur alle formalistiese argumente wat pacta sunt servanda vooropstel. Dit bied ruimte vir die argument dat beginsels waarop die openbare beleid gebaseer is met betrekking tot die grondslag vir middellike aanspreeklikheid ook aangewend kan word om te beslis of vrywaringsklousules wat middellike aanspreeklikheid uitsluit, gehandhaaf behoort te word.

 

Bibliografie

Atiyah, P.S. 1967. Vicarious liability in the law of torts. Londen: Butterworths.

Barnard-Naudé, A.J. 2008. Oh what a tangled web we weave … Hegemony, freedom of contract, good faith and transformation – towards a politics of friendship in the politics of contract. Constitutional Court Review, 1(1):155–208.

Bradfield, G.B. en R.H. Christie. 2016. Christie’s law of contract in South Africa. 7de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Broekman, T. 2018. Biggest bank robbery in South African history: 60 issue summons against FNB. 31 Oktober 2018. https://www.broekmann.co.za/biggest-bank-robbery-in-sa-history-60-issue-summons-against-fnb (25 Februarie 2021 geraadpleeg).

Businesstech, 2018. FNB Safety deposit box heist victims are suing for R121 million. Businesstech 18 September 2018. https://businesstech.co.za/news/banking/272193/fnb-safety-deposit-box-heist-victims-are-suing-for-r121-million (15 Februarie 2021 geraadpleeg).

Calitz, K. 2005. Vicarious liability of employers: reconsidering risk as the basis for liability. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 2:215–35.

—. 2007. The close connections test for vicarious liability. Stellenbosch Regstydskrif, 18(1):45–68.

—. 2019. Sexual harassment: Why do victims so often resign? E v Ikwezi Municipality 2016 37 ILJ 1799 (ECG). Potchefstroom Electronic Law Journal, 22:1–23.

Christie, R.H. 1996. The law of contract in South Africa. 3de uitgawe. Durban: Butterworths.

Departement: Kleinsakeontwikkeling. 2019. https://www.businessinsider.co.za/micro-small-and-medium-business-definition-update-by-sector-2019-3 (15 Februarie 2021 geraadpleeg).

Fagan, A. 2009. The confusion of K. South African Law Journal, 126(1):156–***.

Fleming, J.G. 1992. The law of torts. 8ste uitgawe. Sydney: Law Book Co.

Giliker, P. 2013. Vicarious liability in tort: A comparative perspective. Cambridge: Cambridge University Press.

Kanamugire, J.C. en T.V. Chimuka. 2014. The current state of exemption clauses in the South African law of contract. Mediterranean Journal of Social Sciences, 5(9):64–75.

Louw, A.M. 2013. Yet another call for a greater role for good faith in the South African law of contract: Can we banish the law of the jungle, while avoiding the elephant in the room? Potchefstroom Electronic Law Journal, 16(5):44–120.

Mapangavanhu, Y. 2014. Exemption clauses and the Consumer Protection Act: An assessment of Naidoo v Birchwood Hotel 2012 6 SA 170 (GSJ). Potchefstroom Electronic Law Journal, 17(3):1166–94.

Naudé, T. en Lubbe, G. 2005. Exemption clauses − A rethink occasioned by Afrox Healthcare v Strydom. South African Law Journal, 122(2):441–63.

Naudé, T. 2009. The consumer’s right to fair, reasonable and just terms under the new Consumer Protection Act in comparative perspective. South African Law Journal, 126(3):505–36.

Neethling, J. 2019. Risikoskepping en die middellike aanspreeklikheid van werkgewers: ’n belangrike ontwikkeling: Stallion Security v Van Staden (526/2018) [2019] ZASCA 127 (27 September 2019). LitNet Akademies, 16(3):820–9.

Scott, J. 2011. Middellike aanspreeklikheid van die staat vir misdadige polisie-optrede: Die heilsame ontwikkeling duur voort. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 1:135−47.

Stoop, P.N. 2008. The current status of the enforceability of contractual exemption clauses in contracts for the exclusion of liability in the South African law of contract. South African Mercantile Law Journal, 20(4):496–509.

Wagener, S. 2008. K v Minister of Safety and Security and the increasingly blurred line between personal and vicarious liability. South African Law Journal, 125(4):673–80.

 

Eindnotas

1 (21830/2014) [2020] ZAGPJHC 111 (25 Maart 2020).

2 Giliker (2013:18–9).

3 Calitz (2005:215).

4 Fleming (1992:367).

5 Atiyah (1967:27).

6 Giliker (2013:19).

7 Feldman (Pty) Ltd v Mall 1945 AD 733, 741.

8 Mkhize v Martens 1914 AD 382.

9 [1999] 2 SCR 534.

10 Bazley par. 11.

11 Bazley par. 36.

12 Bazley parr. 26–34.

13 Bazley par. 36.

14 Bazley par. 41.

15 Bazley par. 58.

16 [1999] SCR 590.

17 Jacobi parr. 82–3.

18 [2001] UKHL 22.

19 [2002] UKHL 48.

20 2004 4 SA 221 (K).

21 [2005] 3 All SA 297 (HHA). Sien Calitz (2005:215–35).

22 2005 6 SA 419 (KH).

23 K par. 22.

24 [1986] 1 All SA 361 (A).

25 Par. 8.

26 1945 AD 733.

27 Feldman 741.

28 K parr. 50–2. Sien ook oor die noueverbandtoets Calitz (2007:45–68). Sien Fagan (2009:156) en Wagener (2008:673–80) vir kritiek op die uitspraak in K, wat hulle beskou as die oplegging van onbeperkte aanspreeklikheid op die polisiemag. Scott (2011:135–47) is egter ten gunste van die ontwikkeling.

29 2012 1 SA 536 (KH).

30 2018 6 SA 1 (KH).

31 2016 5 SA 114 (ECG).

32 E par. 79. Sien Calitz (2019:1–23).

33 (2019) 40 ILJ 2695 (HHA).

34 Stallion parr. 36–7.

35 Stallion par. 37.

36 Stallion par. 32.

37 Neethling (2019:820).

38 (21830/2014) [2020] ZAGPJHC 111 (25 Maart 2020).

39 Stoop (2008:496–509, 496).

40 Kanamugire en Chimuka (2014:164).

41 Mapangavanhu (2014:1167).

42 2007 SACC 5 parr. 136 e.v.

43 Stoop (2008:497); Afrox Health Care v Strydom [2002] 4 All SA 125 (HHA) par. 6; Durban’s Water Wonderland (Pty) Ltd v Botha [1999] 1 All SA 411 (A) par. 15.

44 Wonderland par. 18; Mercurius Motors v Lopez 2008 3 SA 572 (HHA) par. 33; Afrox par. 36.

45 2002 6 SA 21 (HHA).

46 Afrox par. 36.

47 Naudé en Lubbe (2005:122).

48 2008 3 SA 572 (HHA).

49 Mercurius par. 33.

50 Afrox par. 9; Hotels, Inns & Resorts SA (Pty) Ltd v Underwriters at Lloyds 1998 4 SA 466 (T) par. 29.

51 Hotels par. 29.

52 2007 2 SA 83 (HHA).

53 Drifters par. 9.

54 Pall SA (Pty) Ltd v Group 4 Falck Security Services (Pty ) Ltd (A233/07) [2010] ZAGPPHC 558 (10 Februarie 2010) par. 13.

55 [2010] ZAGPPHC 558. Die saak sal hier onder in afdeling 5 wat handel oor vrywaringsklousules en middellike aanspreeklikheid verder bespreek word.

56 [1999] 1 All SA 411 (A).

57 Wonderland par. 10.

58 Sien hier onder.

59 Magna Alloys and Research SA (Pty) Ltd v Ellis 1984 4 SA 874 (A) 891G; Afrox par. 10.

60 [1989] 1 All SA 347 (A).

61 Fender v St John-Mildmay (1938) AC 1, 12.

62 Sasfin par. 12.

63 Sasfin parr. 28–9.

64 2001 1 SA 464 (K).

65 Par. 140.

66 2002 4 SA 1 (HHA).

67 Brisley par. 24.

68 Brisley, afsonderlike uitspraak parr. 4–6.

69 Afrox par. 10.

70 Par. 32.

71 Ibid.

72 2007 5 SA 323 (KH).

73 Barkhuizen parr. 56–7.

74 Barkhuizen parr. 56–8.

75 Barkhuizen par. 73.

76 Barkhuizen par. 141.

77 Barkhuizen par. 154.

78 Louw (2013:81).

79 Ibid.

80 2020 5 SA 247 (KH).

81 Beadica par. 84.

82 Beadica par. 87.

83 Beadica par. 80.

84 Beadica par. 148.

85 Beadica par. 202.

86 Barnard-Naudé (2008:155–208).

87 Afrox par. 10.

88 Barkhuizen 154.

89 1927 AD 69.

90 Stoop (2008:502).

91 First National Bank of SA Ltd v Rosenblum (FNB) 2001 4 SA 189 (HHA) par. 22; Goodman Brothers (Pty) Ltd v Rennies Group Ltd 1997 4 SA 91 (W) par. 99.

92 1978 2 SA 794 (A).

93 Fibre Spinners 806.

94 1997 4 SA 91 (W).

95 Goodman par. 94.

96 Goodman par. 96.

97 Bradfield en Christie (2016:104).

98 Goodman par. 102.

99 Goodman parr. 103–4.

100 Goodman par. 107.

101 Goodman parr. 107–8.

102 2001 4 SA 189 (HHA).

103 FNB par. 22.

104 Parr. 6–7.

105 Ibid.

106 Broekman (2018).

107 Businesstech (2018).

108 1998 4 SA 466 (K).

109 Par. 6.

110 Hotels par. 18.

111 Hotels par. 25.

112 Ibid.

113 Hotels par. 26.

114 Hotels par. 29.

115 Christie (1996:216).

116 1993 3 SA 424 (A).

117 Parr. 16–7.

118 Naudé en Lubbe (2005:441).

119 (A233/07) [2010] ZAGPPHC 558 (10 Februarie 2010).

120 Par. 5.

121 Hotels par. 30.

122 Pall par. 14.

123 Afrox par. 10.

124 Par. 9.

125 Parr. 22–4.

126 Parr. 20–1.

127 Afrox par. 21.

128 Naudé en Lubbe (2005:442).

129 Bradfield en Christie (2016:104).

130 Bradfield en Christie (2016:218).

131 Fujitsu parr. 11–6.

132 Fujitsu par. 8.

133 Fujitsu par. 24.

134 Fujitsu parr. 25–7.

135 Fujitsu parr. 29–30.

136 Goodman par. 47.

137 Fujitsu par. 36.

138 Fujitsu par. 37.

139 2016 1 SA 518 (HHA) par. 27.

140 2014 2 SA 494 (HHA) parr. 10–2.

141 2013 5 SA 1 (HHA) parr. 24, 25.

142 Novartis par. 28.

143 Wonderland par. 10.

144 Fujitsu par. 46.

145 Art. 1.

146 Art. 5(2)(b).

147 Art. 48(2)(b).

148 Mapangavanhu (2014:1184).

149 Art. 49(2).

150 Art. 49(3) gelees met art. 22.

151 Art. 49(2)(H).

152 [2020] 1 All SA 857 (WKK).

153 Van Wyk par. 11.

154 Van Wyk par. 92.

155 Naudé (2009:505).

156 Naudé (2009:510).

157 Mapangavanhu (2014:1189).

158 Naudé (2009:523–4).

159 Art. 51(1)(a)(ii) en (iii).

160 Departement: Kleinsakeontwikkeling (2019).

161 Afrox par. 10.

162 Bazley par. 38.

163 Stallion par. 32.

164 Fujitsu parr. 25–7.

165 2010 ZASCA 76.

166 Van Jaarsveld par. 3.

167 Sien Novartis hier bo.

168 Sien Hotels, Lubbe en Naudé hier bo.

169 Sien Froneman J in Beadica.

170 Sien Stallion en Fujitsu hier bo.

171 Art. 48(2)(a)−(b) van die wet.

172 Sien die kritiek op Goodman, Pall en FNS hier bo.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Die uitsluiting van middellike aanspreeklikheid van werkgewers in vrywaringsklousules appeared first on LitNet.

Die gebruik van totale kwaliteitsbestuur in die aanpassing van kwaliteit van aflewering: ’n gevallestudie in private hoër onderwys

$
0
0

Die gebruik van totale kwaliteitsbestuur in die aanpassing van kwaliteit van aflewering: ’n gevallestudie in private hoër onderwys

Liana Venter, Registrateur, Akademia, Pretoria
Nelda Mouton, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom1

LitNet Akademies Jaargang 18(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Suid-Afrika het ’n hoogs gereguleerde hoëronderwyssektor wat uit openbare en private instellings bestaan. Die onderskeidende faktor tussen die instellings word gevind in hoe hulle befonds en bedryf word. Die uitdaging vir hoëronderwysinstellings (HOI’s) in hierdie dienssektor is om studente na hul instellings te lok deur op hul mededingende voordeel en markposisionering te vertrou. Hoër onderwys vorm deel van die dienssektor van die ekonomie, en kwaliteit van die diens kan dus ’n onderskeid vorm. Die doelwitte van die studie is eerstens om die kwaliteitsmeganismes wat deur ’n private instelling vir hoër onderwys gebruik word, te ondersoek en te bepaal of die nakoming van ’n eksterne regulatoriese raamwerk die lewering van diensgehalte ondersteun. Tweedens het die studie gepoog om te bepaal of die implementering van totale kwaliteitsbestuur ’n private instelling vir hoër onderwys help om die waardeproposisie aan te pas om ’n mededingende voordeel te bekom. ’n Kwalitatiewe, verkennende gevallestudienavorsingsontwerp is gebruik. Vier bestuurders en tien geregistreerde senior studente is deur middel van doelgerigte steekproefneming gekies. Data is ingesamel uit verskeie bronne, wat diepgaande onderhoude en fokusgroepbesprekings tussen Junie en Oktober 2019 ingesluit het. Data is ontleed met behulp van in vivo-kodering en ATLAS.ti8-sagteware. Die sentrale tema wat uit hierdie studie na vore gekom het, het bevestig dat die aanvaarding van interne kwaliteitsmeganismes en totale kwaliteitsbestuurbeginsels van wesenlike belang vir ’n private instelling vir hoër onderwys is. Die drie belangrikste temas wat na vore gekom het, was die nakoming van die regulatoriese raamwerk, institusionele aanbod en kwaliteitsbestuur. Die gevolgtrekking word gemaak dat die verbetering van die interne gehalte in ’n private instelling vir hoër onderwys belangrik is in teenstelling met slegs die nakoming van eksterne gehaltebeheervereistes.

Trefwoorde: hoër onderwys; mededingende voordeel; private hoër onderwys; sakegedrewe; totale kwaliteitsbestuur; waardeproposisie

 

Abstract 

The use of total quality management in the adaptation of quality of delivery: a case study in private higher education

South Africa has a highly regulated higher education sector consisting of public and private institutions. The distinguishing factor between these institutions is found in how they are funded and their day to day operations. The challenge for higher education institutions (HEIs) in this service sector is to attract students to these institutions by relying on their competitive advantage and market positioning. Higher education forms part of the service sector of the economy, and quality of service can therefore be a distinguishing factor. The objectives of the study are to examine the quality mechanisms used by a private institution of higher education and to determine whether compliance with an external regulatory framework supports the delivery of service quality, and to determine whether the implementation of total quality management in a private institution assists the institution in adjusting the value proposition to gain a competitive advantage. A qualitative, exploratory case study research design was used. Four managers and ten registered senior students were selected through purposeful sampling. Data was collected from various sources, including in-depth interviews and focus group discussions between June and October 2019. Data was analysed using in vivo coding and ATLAS.ti8 software. The central theme that emerged from this study confirmed that the acceptance of internal quality mechanisms and total quality management principles is essential for a private higher education institution. The three most important themes that emerged were compliance with the regulatory framework, institutional supply and quality management. It is concluded that improving the internal quality in a private institution of higher education is important as opposed to only complying with external quality control requirements.

Keywords: business driven; competitive advantage; higher education; private higher education; total quality management; value proposition

 

1. Inleiding

Wêreldwyd het hoër onderwys (HO) die afgelope dekade groot veranderinge ondervind weens tegnologiese ontwikkelinge, kritieke politieke en ekonomiese uitdagings wat ondervind is, veranderende studentebehoeftes en ’n toename in die vraag na onderwys. In Suid-Afrika bestaan die behoefte aan kwaliteit-HO ook as gevolg van die massifikasie van HO (DHET 2018; Stander 2017:4; Van Schalkwyk 2018:24; Thaver 2006:860). Binne die Suid-Afrikaanse konteks word HO verdeel in openbare en private instellings vir hoër onderwys (HOI’s), wat binne dieselfde regulatoriese omgewing werk, maar met die onderskeidende faktore wat gevind word in die verkryging van befondsing, hoe hulle gestruktureer is en hoe hulle funksioneer. Volgens Ellis en Steyn (2014:445) word private HOI’s hoofsaaklik as ondernemings bestuur en moet hulle aanpas by praktyke soos toerekenbaarheid en doeltreffendheid in hul bedrywighede as gevolg van die veranderende behoeftes van die mark en studente as hulle winsgewend en mededingend wil bly. Studente is belangrike belanghebbendes wat in wese die kliënte van die HOI is en ’n diens ontvang, maar daar word ook van studente verwag om ’n teenprestasie te toon. Privaat instellings het dus ’n kliëntgedrewe fokus, soos o.a. Goetsch en Davis (2014) verduidelik.

Die vraag na HO is groter as wat openbare HOI’s kan bied en groter toegang tot HO is nodig (DHET 2013:22), wat die geleentheid bied vir privaat instellings om die gaping te vul (Stander 2017:4; Thaver 2006:860). Dit skep die geleentheid vir private HOI’s om hul waardeproposisies te herlaai (Lichy en Birch 2015:1) en te verseker dat hulle relevant bly vir hul kliënte (Ibrahim en Dahlan 2016:600). Privaat HOI’s word volgens die Wet op Hoër Onderwys 101 van 1997 gereguleer, ten opsigte van sekere hoëronderwys-gehaltestandaarde, maar funksioneer steeds as onafhanklike ondernemings. Die krag van private HOI’s kan gevind word in hul vermoë om op spesifieke markvraag te reageer, nie gebind deur burokratiese beperkings nie, en die buigsaamheid het om veranderinge aan hul sakemodelle aan te bring (Ellis en Steyn 2014:445). Hierdie buigbaarheid kom voor in byvoorbeeld waar privaat HOI’s hulle kampusse open soos wat die vraag na hoër onderwys in sekere dele toeneem.

Die uitdaging vir HOI’s in hierdie dienssektor is om studente na hul instellings te lok deur op hul mededingende voordeel en markposisionering te vertrou.

Daar is verskillende definisies van kwaliteit, en in HO is die onderskeid tussen kwaliteit en kwaliteitsversekering ook van belang. Stander (2017:1) argumenteer dat kwaliteit in HO verwys na die kwaliteit van die leer wat die student ervaar, terwyl kwaliteitsversekering fokus op die versekering aan belanghebbendes dat die leerproses voldoende en geloofwaardig is in vergelyking met dié by ander instellings.

Die Suid-Afrikaanse HO-sektor is hoogs gereguleer, met eksterne kwaliteitsmaatreëls in die vorm van nasionale beleid en raamwerke wat verpligtend is vir alle HOI’s wat binne die sektor wil werk. Die gereguleerde omgewing stel uitdagings vir private HOI’s om ten volle as ondernemings te funksioneer, aangesien hulle nie noodwendig vinniger op mark- en verbruikersveranderings kan reageer as openbare HO-instellings nie. Vanweë die gebrek aan instrumente om die kwaliteit van die uitkomste in die HO effektief te meet, word die regulering van die hulpbronne en prosesse wat gebruik word om kwaliteit te skep, streng gemonitor, hoewel dit hoofsaaklik deur ’n eksterne fokus gedoen word (Armstrong 2014:5; Luckett 2007:98). Daar bestaan verskillende vorme van eksterne kwaliteitsversekeringsmeganismes, insluitend akkreditasie, oudits, institusionele oorsigte, standaardopstelling en rangorde (Stander 2017:19). Akkreditasie is die mees relevante aspek hiervan vir private HOI’s, aangesien dit ’n effektiewe vorm van professionele beheer is wat verband hou met die nakoming van minimum standaarde, aanspreeklikheid en deursigtigheid in die prosesse van die instelling, en die doel is om die kwaliteit wat in die HO-sektor aangebied word, te verhoog. Deur voldoening aan nasionale akkreditasievereistes word die mark verseker dat die kwalifikasies wat deur die private HOI aangebied word, op standaard is (DHET 2018).

Sallis (2014) bevestig dat hoewel hierdie eksterne maatreëls ’n plek het om gehalte te verseker, dit eerder ’n kwaliteitsbeheermeganisme is en dat kwaliteitverbetering die fokus behoort te wees. Kwaliteitverbetering is egter ’n interne aangeleentheid vir elke instelling, wat belangriker en moeiliker is om te bereik. Kwaliteitsverbetering kan effektief wees slegs as dit intern deur die instelling aangeneem word, en word ’n bestuursbenadering wat fokus op die lewering van diensgehalte. Die versekering van gehalte in die sektor sal bepaal word deur die ontwikkeling van kapasiteit binne instellings om kwaliteit op alle terreine van hul bedrywighede te implementeer (Alani e.a. 2014:232). Massifikasie van HO het ’n invloed op die kwaliteit van HO (Thaver 2006:861), en Hornsby en Osman (2014:712) redeneer dat die dryfkrag vir massifikasie van openbare HO nie ondersteun word deur ’n proporsionele toename in menslike, finansiële en fisiese hulpbronne vir hierdie HOI’s nie, wat die kwaliteit direk beïnvloed. Private HOI’s gebruik dit tot hul voordeel, aangesien hierdie instellings in staat is om die nodige hulpbronne toe te ken aan studente-ondersteuning as gevolg van die sakemodel wat hulle volg en hul sake- en ondernemingsbenadering (Miller e.a. 2014:266).

Van Schalkwyk en Steenkamp (2016:578) verwys na die bestuur en verbetering van dienskwaliteit as ’n kritieke faktor in die verbetering van private HO en een wat gesien kan word as die onderskeidende faktor vir sukses tussen instellings in die sektor. Die verwagting van belanghebbendes in die HO-sektor het beweeg na die verwagting van meer kwaliteit in die vorm van verbeterde prestasies, institusionele effektiwiteit in bedrywighede, verbeterde tevredenheid van belanghebbendes en mededingendheid in die mark (Stander 2017:22, 139). Kwaliteitsversekering in private HOI’s is gefokus op die studente (as kliënte) en hul tevredenheid. Stander (2017:139) het bevind dat private HOI’s kwaliteit anders definieer as hoe openbare HOI’s dit doen, en dat kwaliteitsversekeringspraktyke en -prosesse in private HOI’s hoofsaaklik op kliënte gefokus is – en daarom studentetevredenheid. As gevolg van private HOI’s wat as korporatiewe ondernemings bedryf word, vorm fundamentele besigheidsbestuursaspekte soos totale kwaliteitsbestuur (TKB) deel van hul daaglikse bedrywighede (Van Schalkwyk 2018:29).

Daar is gevind dat TKB ’n belangrike rol in die onderwys speel en instellings help om veranderinge in die bedryf suksesvol te hanteer (Khan e.a. 2018:182). Goetsch en Davis (2014) definieer TKB as die benadering wat organisasies gebruik om sake te doen deur te poog om die organisasie se mededingendheid te maksimeer deur die kwaliteit van hul diens en deur prosesse voortdurend te verbeter. Van Schalkwyk en Steenkamp (2016:578) het ook bepaal dat TKB instansies sal help om interne en eksterne kliënttevredenheid te bewerkstellig. Van Schalkwyk en Steenkamp (2016:579) versterk die fokus verder tot nie net kwaliteit nie, maar spesifiek diensgehalte, en beklemtoon dat private HOI’s waarde kan skep deur ’n diens van hoë gehalte te bied. Deur die verbetering van die diensgehalte deur TKB-beginsels toe te pas, kan instellings ’n diensstrategie gebruik wat ’n totale verbintenis tot die verbetering van hul diens bevorder, wat tot ’n groter markaandeel kan lei (Van Schalkwyk en Steenkamp 2016:581).

Vir private HOI’s om van so ’n mededingende voordeel gebruik te maak, is dit belangrik dat die instellings hul studente ken en ook die veranderende behoeftes van hul studente, om sodoende te verseker dat die waardeproposisies wat die instelling bied, wel in die teikenmark se behoeftes voorsien (Stander 2017:22, 139). Hierdie instellings werk nie in isolasie nie, en hoewel private HOI’s die vryheid het om vernuwend te wees in hul sakemodelle, word hulle ook beperk deur die regulatoriese omgewing waarin hulle werk, en word hulle ook beïnvloed en gevorm deur verskillende behoeftes van eksterne belanghebbendes. As gevolg van die veranderinge wat in die HO-sektor ondervind word, gekombineer met die groei in die afgelope paar jaar (van Schalkwyk 2018:3), moet private HOI’s hul sakemodelle – en nog belangriker, hul waardestelling – heroorweeg om relevant en mededingend te bly (Wehn e.a. 2017:3). Hierdie instellings moet hierdie veranderinge as geleenthede gebruik en maniere bepaal om in die behoeftes van die kliënte te voorsien (Sutin 2016:18) deur te fokus op die kwaliteit van die diens wat hulle aanbied (Van Schalkwyk 2018:49) en om kliënttevredenheid te verseker (Manatos e.a. 2017:161).

Volgens Tomlinson (2018:713) word die waarde van HO afgelei van HOI’s se doelstellings om kennis aan individue oor te dra om hulle te bemagtig. Die waarde van onderwys is nie tasbaar nie, en die enigste ervaring met betrekking tot die waarde wat die studente tydens hul studie sal hê, is die kwaliteit van die diens wat studente van die instelling ontvang. Deur diepgaande kennis van studente se behoeftes en die profiel van studente kan private HOI’s bepaal hoe hulle die diens wat hulle aan studente bied, moet struktureer (Wehn e.a. 2017:5). Armstrong (2014:7) is ook van mening dat die waardeproposisie van kliënte voortdurend verander, wat tot ’n verdere uitdaging en geleenthede vir private HOI’s lei. Newman (2015:5) redeneer dat die antwoord om nuwe waardevoorstelle te lewer, is om te verseker dat private HOI’s hul sakemodel kan innoveer.

Dit is daarom belangrik om kwaliteit binne private HO te verseker, te monitor en te ontwikkel om relevant en mededingend binne die sektor te bly.

 

2. Probleemstelling 

Die doeltreffendheid van die implementering van TKB en diensgehalte in private HOI’s is onbekend. Daar moet bepaal word of die implementering van TKB in private HOI’s hierdie instellings ondersteun om hul waardestelling aan te pas om te voorsien in die veranderende behoeftes van studente. Die mededinging in die private HO-sektor neem toe, en hierdie instellings moet op nuwe maniere meeding om volhoubaarheid in die mededingende omgewing te verseker. Hierdie artikel poog om dié probleem aan te spreek.

Die navorsingsvrae wat uit die probleemstelling voortspruit, is soos volg:

  • In watter mate is die lewering van kwaliteitsdienste in private HO deur die regulatoriese omgewing ekstern en TKB intern by private HOI X verseker ten tye van die ondersoek?
  • Kan TKB private HOI X help met die verskaffing van ’n kwaliteitdiens aan studente en die instelling lei om relevant in die sektor te bly deur die waardestelling betyds aan te pas?

 

3. Navorsingsdoelwitte

Die doelwitte van hierdie studie is om:

  • die kwaliteitsmeganismes wat deur ’n private HOI gebruik word te ondersoek en te bepaal of die nakoming van ’n eksterne regulatoriese raamwerk die lewering van diensgehalte steun
  • te bepaal of TKB-implementering ’n private HOI help om die waardestelling aan te pas om ’n mededingende voordeel te verkry.

 

4. Navorsingsontwerp en metodes

4.1 Navorsingsontwerp 

Die navorsingsontwerp is die plan en struktuur wat gebruik word om die navorser deur die navorsingsmetode en analise van die data te lei om antwoorde te kry op die navorsingsvrae wat gestel is (Bryman e.a. 2017:101). Die navorsingsontwerp bied dus die raamwerk waardeur die data wat in die navorsing gebruik is, versamel word.

’n Kwalitatiewe, verkennende gevallestudie-navorsingsontwerp is gebruik om ’n holistiese en volledige begrip van die betrokke saak te ontwikkel (Silverman en Marvasti 2008:162). ’n Kwalitatiewe navorsingsmetode is ’n ondersoekende proses waar ’n bepaalde verskynsel bestudeer word om ’n diepgaande begrip van die deelnemers se perspektiewe en lewens te verkry (Vaismoradi e.a. 2013:398). ’n Verkennende navorsingsontwerp is gevolg om die ervarings van bestuurders en senior geregistreerde studente in ’n private HOI te ondersoek. Sosiale konstruktivisme is dus toepaslik geag vir hierdie studie, aangesien dit die navorsers in staat gestel het om in hul natuurlike omgewing die persepsies en ervarings van sowel bestuurders as studente binne ’n private HOI te ondersoek, wat die waardeproposisie van privaat HO is, en of TKB en diensgehalte ’n invloed kan hê op die student se keuse ten opsigte van ’n HOI.

4.2 Eenheid van analise en steekproef

Die eenheid van analise vir die navorsing was ’n private HOI (private HOI X genoem), wat ’n werklike gevallestudie is en relevant is tot die navorsingsvrae wat gedefinieer is (Yin 2009:30).

Die steekproef was heterogeen, en vier bestuurders oor die top- en middelbestuurstruktuur van private HOI X is in die navorsingstudie opgeneem omdat hierdie individue deel vorm van die kwaliteitsprosesse in die verskynsel wat bestudeer word. Tien geregistreerde studente in hul tweede of derde studiejaar vorm ook deel van die steekproef, aangesien hulle die sleutel is tot die ondersoek van die ervarings van die kwaliteit van die diens en waardestelling van die saak wat bestudeer is.

Steekproefnemingstegnieke word gebruik om die data wat nodig is vir die navorsingstudie te verminder deur die populasie te bepaal waaruit data versamel moet word, eerder as alle moontlike elemente in die populasie (Saunders e.a. 2009:210). Niewaarskynlikheidsteekproefneming, en spesifiek doelgerigte steekproefneming, is gebruik aangesien die steekproef deur die navorser gekies is uit ’n spesifieke groep private HOI’s, wetende dat dit nie die groter bevolking verteenwoordig nie, maar wel verteenwoordigend is van die analise-eenheid wat die studie sal ondersoek (Gentles e.a. 2000:1778).

Doelgerigte steekproefneming in hierdie navorsingstudie het die navorser die geleentheid gebied om indringende inligting te versamel om die navorsingsvraag van die gevallestudie te beantwoord, aangesien die deelnemers gekies is omdat hulle doelbewus ’n begrip van die navorsingsvraag kan meebring. Dit is sentraal tot die verskynsel in die studie, en is in dieselfde studiesentrum van die instelling geleë (Saunders e.a. 2009:239). Met die gebruik van doelgerigte steekproefneming is die studie gefokus op ’n diepgaande begrip van die persepsies en ervarings van die bestuurspan en geregistreerde studente van ’n private HOI.

4.3 Data-insameling

Verskeie databronne is in die proses van data-insameling gebruik. Die enkele-gevallestudie-metode, gekombineer met diepgaande onderhoude en fokusgroepbesprekings, is gebruik vir die kruiskontrolering en aanvulling van die data wat uit die literatuur- en dokumentoorsig verkry is. Triangulering van die gegewens is gedoen om beheer te verseker oor die faktore wat die geldigheid van die navorsing kan beïnvloed, en om ’n geldige en betroubare manier van interpretasie van navorsing te bied (Bryman e.a. 2017:45).

Die data is vanuit drie bronne ingesamel, naamlik:

  • dokumentering, oorsig en ontleding van nasionale en internasionale literatuur wat beskikbaar is oor die onderwerpe wat in die navorsing behandel word
  • diepgaande onderhoude met vier middel- en senior bestuurders in die instelling
  • fokusgroepgesprekke met tien geregistreerde tweede- en derdejaarstudente wat aan die instelling studeer.

Die belangrikste vrae wat tydens die onderhoude aan bestuurders gestel is, sluit die volgende in:

  • Hoe sien u die rol van die regulerende raamwerk in Suid-Afrika?
  • Watter waarde word tot die diens van die instelling toegevoeg deur aan die registrasie- en akkreditasievereistes van die regulatoriese raamwerk te voldoen?
  • Wat is u breë, algemene definisie van diensgehalte?
  • Watter formele kwaliteitsprosesse is daar binne die instelling?
  • Wat is na u mening die belangrikste pilare vir diensgehalte vir u instelling?
  • Na u mening, is dienskwaliteit belangriker vir private HOI’s as vir openbare HOI’s?
  • Wat is die kernwaardestelling van private HOI X?

Die belangrikste vrae wat tydens die onderhoude aan senior studente gestel is, sluit die volgende in:

  • Wat was die kernfaktore wat bygedra het tot u keuse van ’n openbare of private instelling vir hoër onderwys?
  • Wat was die hoofrede waarom u hierdie instelling gekies het?
  • Wat is u definisie van kwaliteit van diens?
  • Voel u dat die instelling studenteterugvoer gebruik om veranderinge aan die kwaliteit van diens aan te bring?
  • Is u van mening dat veranderinge wat gedurende die vorige akademiese jaar aangebring is, waarde vir u toegevoeg het?

4.4 Data-analise

Verskeie tegnieke en praktyke word gebruik om kwalitatiewe data te ontleed en sal van die navorser se eie denkstyl afhang (Yin 2009:127). Data is deurlopend georganiseer deur die onderhoude te transkribeer en alle veldnotas wat opgestel is, te tik (Burke Johnson en Christensen 2014:458). Deur die lees van die getranskribeerde onderhoude is inligting tydens die onderhoude en fokusgroepbespreking verkry. Dit het die navorser in staat gestel om na te dink oor die algemene betekenis van terugvoering tydens die data-insamelingsproses en algemene idees van die data kon gevorm word.

Die koderingsproses is regdeur die navorsingsproses gedoen deur gebruik te maak van Excel, in vivo-kodering en ATLAS.ti8 om temas te formuleer en te verseker dat die sleutelterme wat deur deelnemers gebruik word, vasgelê word (Burke Johnson en Christensen 2014:596; Creswell 2009:258). Kodering behels die hersiening van alle transkripsies en die skep van kategorieë in verhouding tot die versamelde data, deur die gegewens saam te groepeer onder ’n term in gebiede waar die gegewens as dieselfde tipe beskou is.

Die getranskribeerde gegewens is in temas en subkategorieë georganiseer, en patrone en temas uit die onderhoude en fokusgroepbesprekings is gemerk (Henning 2018:105). Die resultate van die antwoorde is met die navorsingsvraag vergelyk en opgesom om vas te stel of die data by die doel van die studie pas en die navorsingsvraag kon beantwoord (Burke Johnson en Christensen 2014:600). Die belangrikste temas is vervolgens in die argumente en besprekings gebruik. Dit vorm die bewyse vir die navorsingstudie (Henning 2018: 107).

4.5 Maatstawwe om betroubaarheid te verseker

In kwalitatiewe navorsing verwys geldigheid na die betroubaarheid van die resultate en behels vier kriteria (Bryman e.a. 2017:44):

  • Geloofwaardigheid, wat verwys na hoe akkuraat die ervarings van deelnemers in die data-analise voorgestel word. Geloofwaardigheid in die navorsingstudie is bereik deur die mondelinge transkripsies van die onderhoude en fokusgroepbesprekings, sowel as die gebruik van verskeie metodes om data te versamel.
  • Oordraagbaarheid, wat verwys na die vraag of die bevindings van die navorsing na ’n groter bevolking of binne verskillende kontekste oorgedra kan word. Aangesien die gevallestudie slegs op een private HOI fokus, kan verdere navorsing onder ander private HOI’s in die toekoms gedoen word.
  • Betroubaarheid, wat parallel is aan betroubaarheid in kwantitatiewe navorsing (Bryman e.a. 2017:44) en verwys na die “ouditering” van die navorser se navorsingsproses. Betroubaarheid in die navorsingstudie is bereik deur volledige rekords te hou van alle fases van die navorsingsproses.
  • Bevestigbaarheid, wat verwys na die objektiwiteit van die navorser tydens die navorsingsproses. Bevestigbaarheid in die navorsingstudie is deur die navorser verseker om sodoende nie toe te laat dat persoonlike waardes of teoretiese neigings die navorsing wat uitgevoer word, beïnvloed nie.

4.6 Etiese oorwegings

Etiese klaring is verkry vanaf die uitvoerende komitee van die betrokke private HOI sowel as van die Noordwes-Universiteit se Etiekkomitee (verwysingsnommer: NWU-00727-19-A4). Etiese beginsels wat deur die navorsing gehandhaaf is, is onder andere: die verkryging van ingeligte toestemming van alle deelnemers, die anonimiteit en vertroulikheid van die deelnemers, en die versekering dat geen misleiding sal plaasvind tydens die navorsingsproses nie (Bryman e.a. 2017:120).

 

5. Bespreking van bevindinge

Na die onderhoude en die fokusgroepbesprekings het drie sleuteltemas na vore gekom, naamlik nakoming, kwaliteitsbestuur en institusionele aanbod. Die sleuteltemas is verder ondersteun deur subkategorieë wat onder elke tema na vore gekom het. Tabel 1 bevat ’n samevatting van die temas en subtemas.

Tabel 1. Temas en subkategorieë

Tema

Subkategorie

Nakoming van die regulatoriese raamwerk

Effek van nakoming

Institusionele aanbod

Private benadering tot HO-aanbod
Aanpasbare en buigsame prosesse
Kliëntgesentreerde benadering

Kwaliteitsbestuur

TKB-implementering
Kwaliteit in dienslewering

 

Die beskrywings van bevindings wat uit die gegewens verkry is, is geïntegreer in die literatuur wat beskikbaar is om die kennis te bevorder. Die beskrywing van temas en subkategorieë word in die volgende afdeling aangebied.

5.1 Tema 1. Voldoening aan die regulatoriese raamwerk

Die bestuurders het verskillende sienings oor die effek van die regulatoriese raamwerk op kwaliteit en of die bestaan van die regulatoriese raamwerk en die akkreditasieproses effektief is om gehalte in die HO te verseker. Die sienings het gewissel van menings van middelbestuurders dat die publiek verseker is van minimum standaarde in alle programaanbiedinge deur die regulatoriese raamwerk, tot dié van senior bestuurders wat die akkreditasieproses beskou as ’n eenmalige burokratiese oefening wat minimum standaarde verseker, maar nie kwaliteit bevorder nie.

Een bestuurder het opgemerk dat die regulatoriese liggaam ’n relatief klein organisasie is wat toesig moet hou oor meer as 150 instellings; dit is nie vir hulle moontlik om toesig te hou oor kwaliteit nie. Minimum standaarde word opgestel en gekontroleer wanneer HOI’s programme vir akkreditasie indien of ’n instelling registreer, en dit vorm dus deel van ’n eksterne kwaliteitstandaard waaraan alle instellings moet voldoen, en soos deur ’n ander bestuurder genoem, kan mens op papier beweer dat private en openbare instellings dieselfde standaarde het, want hulle moet aan dieselfde raamwerk voldoen. Bevindinge wat deur Thaver (2006:862) aangeteken is, ondersteun die siening van middel- en senior bestuurders dat gehalteversekering die nakoming van ’n stel minimum standaarde behels wat van kritieke belang is om kwaliteit in die instelling te verseker.

Uit die studentefokusgroepe was dit duidelik dat die studente beperkte kennis gehad het oor die regulatoriese raamwerk vir HO. Studente beskou die registrasie van HOI’s as ’n aanduiding dat kwaliteitsprogramme aangebied word en het ’n mate van kennis oor HOI’s wat deur ’n sekere formele proses gaan om programme aan te bied. Dit bevestig die werk van Thobega (2010:2637) wat bevind het dat toepaslike en betroubare akkreditasieprosesse studente gerusstel dat programme en grade wat deur ’n HOI aangebied word, aan aanvaarbare akademiese en professionele standaarde voldoen. Daarom is die opmerking van ’n bestuurder dat afdwingbare maatreëls vir gehalteversekering die gehalte wat aangebied word verbeter, en ook die publiek verseker van voldoening aan minimum standaarde, ’n aanduiding dat HOI’s die rasionaal van die regulatoriese raamwerk verstaan omdat dit ’n positiewe of negatiewe impak op die instelling kan hê. Die doel van ’n regulatoriese raamwerk is om belanghebbendes, en in hierdie geval hoofsaaklik studente, die versekering te bied dat wanneer instellings geregistreer is, hulle aan sekere minimum standaarde voldoen.

Die nakoming van die regulatoriese raamwerk het ’n positiewe uitwerking op ’n private HOI en verseker studente van die standaarde en kwaliteit wat die instelling bied. Kwaliteitsversekering verseker studente dat die aanbiedinge van ’n HOI geloofwaardig is in vergelyking met dié van ander instansies in die sektor (Stander 2017:1). Dit is belangrik vir private HOI’s en hul groei in die bedryf. Die regulatoriese raamwerk bied dus basiese ondersteuning aan instansies om gehalte en standaarde te verseker, maar is so gestruktureer dat dit nie deurlopend gemeet word nie, wat beteken dat instellings ook in hul interne prosesse die kwaliteit moet aanspreek om ’n hoëstandaardaanbod aan studente te verseker (Sallis 2014:6).

5.2 Tema 2. Institusionele aanbod

Die drie sterk subkategorieë wat na vore gekom het uit die gegewens rakende die aanbieding van private HOI’s word hier onder bespreek.

5.2.1 Private benadering tot hoëronderwysaanbieding

Daar was ’n sterk gevoel onder bestuurders dat openbare universiteite sterk mededingers bly vanweë die geskiedenis en nalatenskap wat hierdie instellings het, waar een bestuurder gesê het dat wat hulle aanbied, beter moet wees as wat die openbare instellings aanbied as private instellings mededingend wil bly. Die idee van ’n verskil tussen wat in openbare universiteite en private instellings aangebied word, kan ook gevind word in die gegewens van die studentefokusgroepe. Vanuit die studente se perspektief het die private instelling hulle ’n meer bevorderlike omgewing vir studie aangebied, met ’n student wat verklaar dat dit veiliger is; hulle wil nie betogings hê nie. Daar is verder ondersoek ingestel na die redes waarom hulle ’n private instelling verkies het. Dieselfde student het daarop gewys dat die hoofrede hiervoor was dat hulle nie wou verdwaal in die massas nie en as die massas vandag besluit hulle moet niks doen nie, dan moet hulle niks doen nie. Hulle hou van wat die instellings hulle bied – dit is kleiner en nie vir almal nie.

’n Ander bestuurder het ook gevoel dat die verskil tussen openbare en private instellings op ’n dienslewerings- en kwaliteitsvlak gelê het. Die ondertoon van massifikasie is in die meerderheid van die bestuurders se antwoorde opgemerk. Die perspektief van studente het ook elemente van massifikasie ingesluit as ’n onderskeidende faktor tussen openbare en private HOI’s. Daar is ’n behoefte by studente om as individue gesien te word en nie in die getalle by openbare universiteite verdwaal nie, en die rede waarom hulle die private instelling gekies het, was die omvang daarvan. Dit was opmerklik dat hoewel middelbestuurders op die kompetisie met groter openbare instellings op dienslewering gefokus het, alle studente die kleiner aanbod as ’n waardeproposisie vir die instelling beskou het.

Die massifikasie in openbare instellings bied private instellings die geleentheid om hulself te onderskei, nie net deur die bykomende ondersteuning wat hulle deur hul sakemodelle kan finansier nie (Miller e.a. 2014:266), maar ook om kleiner te bly en toe te laat dat studente voel dat hulle individuele aandag sowel as die nodige ondersteuning om suksesvol te wees, kry. Dit wil voorkom asof ’n behoefte aan kleiner instellings bestaan, en nie alle studente assosieer groter instellings met beter aanbiedinge nie, hetsy in programverskeidenheid of op ’n kwaliteitsvlak. Dit stem ooreen met die siening van Tomlinson (2018:723), wat redeneer dat die intrinsieke waarde van HO binne die emansipatoriese ruimte daarin lê dat dit fundamentele verandering onder studente bewerkstellig deur gevorderde kennis aan studente oor te dra wat tot hul bemagtiging lei. Hierdie fundamentele verandering in studente kan nie met die massifikasie van HO bereik word nie, en private instellings het die geleentheid en voordeel om met kleiner studentegetalle te werk en om ontwikkelde gegradueerdes te verseker.

5.2.2 Aanpasbare en buigsame prosesse

Behalwe dat hulle voldoen aan die vereistes van die regulerende owerheid ten opsigte van institusionele registrasie en programakkreditasie, het private instellings die buigsaamheid en outonomie om te besluit hoe hulle binne hierdie raamwerk op organisatoriese vlak wil funksioneer.

Drie van die vier bestuurders was van mening dat private instellings meer buigsaamheid het in die verandering van prosesse wat nie effektief is nie en kwaliteit in die gedrang bring. Die mening van een bestuurder was dat die strukture en burokrasie van openbare instellings nie altyd bevorderlik is vir gehalteversekering nie. Vir private instellings onderskei hulle tussen buigsaamheid en vinnige aanpassing. Een senior bestuurder was van mening dat aanpasbaarheid en buigsaamheid afneem namate ’n instelling groei, en dat dit dus nie altyd maklik is om op aanvraag te verander nie. ’n Ander bestuurder het opgemerk dat hulle sover moontlik probeer om op alle departemente en prosesse te konsentreer om uitstekende diens te lewer. Hul studente is vir hulle belangrik.

Interessant genoeg, vanuit die perspektief van die studente, soos genoem deur drie studente in albei die studentegroepe, was die geriefliker prosesse ten opsigte van tydlyne by die instelling – spesifiek die registrasietydperke – belangrik. Studente ervaar die buigsame en aanpasbare prosesse van private HOI’s op prosesvlak, met een student wat noem dat hy te laat was om by ’n ander instansie in te skryf. Die latere sluitingsdatum vir registrasie het dit vir hom moontlik gemaak om steeds te registreer.

Aangesien private instellings ook sakegedrewe is, word tot die gevolgtrekking gekom dat hulle moet toesien dat hul prosesse effektief is, en dat hulle hulself daarop rig om prosesse met korter tydlyne te hê.

Bestuurders ervaar die buigsaamheid van private HOI’s sodanig dat dit toelaat om hul kwaliteit te kan verbeter deur vinniger besluite te kan neem rakende prosesse wat nie werk nie, terwyl studente as gevolg van latere registrasieperiodes die buigsaamheid ervaar in terme van toegang tot HO. Dit stem ooreen met die werk van Stander (2017:22), wat daarop wys dat die verwagting van belanghebbendes na die verwagting van kwaliteit in die vorm van verbeterde prestasie en institusionele effektiwiteit in bedrywighede beweeg het, en dat HOI’s op studentetevredenheid gefokus moes word.

5.2.3 Studentgesentreerde benadering

Private HOI’s funksioneer as ondernemings en ontvang geen geld van die regering nie; daarom moet hulle hul eie inkomste genereer terwyl hulle ook met ander private en openbare HOI’s meeding. Die fokus op die kliënt is dus belangrik vir private instellings, omdat hulle afhanklik is van studente vir hul bestaan.

Khoo e.a. (2017:432) wys op die belangrikheid van dienslewering wanneer ’n kliëntgesentreerde benadering aanvaar word. Kliënte se tevredenheid of ontevredenheid met ’n instelling hang af van hul evaluering van die kwaliteit van die diens wat gelewer word. Die getuienis uit die onderhoude bevestig die argumente van Khoo e.a. (2017:433), met die klem op die belangrikheid van ’n studentgesentreerde benadering deur private instellings. Dit was duidelik dat alle bestuurders saamgestem het dat kliëntediens aan studente van kardinale belang is vir hul werksaamhede en sukses. Sleutelboodskappe wat in die onderhoude geïdentifiseer is, dui daarop dat studente die kern van die bedrywighede van die private instelling is.

Studente se ervaring of die instelling ’n studentgesentreerde benadering volg, is tydens die fokusgroepbesprekings getoets. Ondersteuning, kommunikasie en gerieflike prosesse is tydens die dataontleding geïdentifiseer as die gebiede waar studente van mening was dat die instelling inderdaad studentgesentreerd is in sy benadering. Dit word ook weer opgemerk dat daar vanuit die studente se perspektief ’n behoefte bestaan aan individuele en persoonlike interaksie, wat ooreenstem met hul siening oor waarom hulle die private instelling bo ’n openbare universiteit gekies het. Bevindinge uit hierdie studie dui daarop dat die private instelling fokus op die ontwikkeling van prosesse en benaderings wat meer kliëntgesentreerd is en ooreenstem met die gevolgtrekking uit ’n studie deur Van Schalkwyk (2018) wat ook persoonlike aandag as ’n dryfkrag in private instellings geïdentifiseer het.

5.3 Tema 3. Kwaliteitsbestuur

5.3.1 Impak van TKB-implementering

Verskeie aktiwiteite word op akademiese sowel as operasionele vlak in ’n private instelling uitgevoer. Wanneer hierdie aktiwiteite saamgegroepeer word, vorm dit ’n proses in die instelling en beide die aktiwiteite en prosesse is van belang wanneer TKB bespreek word. Uit die onderhoude is tot die gevolgtrekking gekom dat die instelling ’n TKB-benadering volg en was die mening dat die institusionele vermoë om gehalte te lewer in akademiese sowel as dienslewering verbeter moet word deur voortdurend die prosesse van die HOI te verbeter om waarde aan studente te lewer.

Die gehalte in akademiese dienslewering hou ook verband met die regulatoriese raamwerk en daarom bestaan daar reeds ’n eksterne element van gehalteversekering, maar ’n interne gehalteversekeringskomponent is ook belangrik vir private HO. Dit blyk uit die opmerking van een bestuurder dat daar gesê word dat formele prosesse vir gehalteversekering in die strukture van die instelling ingebou is. Met ander woorde, die rolle van die personeel is sodanig dat iemand toesig hou oor die implementering en monitering van kwaliteit. Private instellings kan nie net op die eksterne kwaliteitsversekering staatmaak om die kwaliteit en standaarde aan die publiek te kommunikeer nie, aangesien kwaliteitdienslewering belangrik is vir private instansies wat sakegedrewe is.

Al die bestuurders was dit eens dat prosesse die sleutel is om studentetevredenheid te verseker en dat deurlopende monitering van prosesse moet plaasvind as deel van die TKB-benadering. Daar is bepaal dat TKB geïmplementeer word deur die gebruik van ’n interne kwaliteitsraamwerk vir onderrig en leer wat deur die instelling aangeneem is, en studente-opnames word gebruik om studentetevredenheid te monitor ten opsigte van die algehele dienslewering van die instelling. Om objektiwiteit te verseker, skeduleer die HOI eweknie-evaluerings, wat nie ’n regulatoriese vereiste is nie, maar wat die instelling ’n mededingende maatstaf bied.

Tydens die studentedataontledingsfase is daar gevind dat daar positiewe en negatiewe sentimente onder die fokusgroepe is met betrekking tot die deurlopende monitering wat deur die instelling geïmplementeer word. Die dataontleding toon dat die helfte van die studente ten gunste van die veranderinge is en dat die ander helfte negatief kommentaar lewer op die deurlopende veranderinge wat aangebring word. Die negatiewe terugvoer van studente dui op swak kommunikasie oor kwaliteitsbestuursaktiwiteite aan studente, maar dit is belangrik om aan alle vereistes van die kliënt te voldoen en die proses-herontwerp van die instelling kan te vinnig wees.

5.3.2 Kwaliteit in dienslewering

Kwaliteit was een van die terme wat die meeste deur die deelnemers gebruik is. Die regulatoriese raamwerk is gebaseer op die konsep van kwaliteit in terme van hoe die instelling die kerndoel van HO uitvoer, en sluit die doeltreffendheid en effektiwiteit van die instelling se funksionering in (CHE 2004:11). Alhoewel die regulerende raamwerk ’n eksterne meganisme vir kwaliteitsversekering is, moet daar vanuit bogenoemde konteks ’n innerlike siening van gehalte wees. Hierdie kwalitatiewe introspeksie is wat die data uit die studie ook onthul het, met al die bestuurders wat saamstem dat kwaliteit die instelling se verantwoordelikheid is, en ’n bestuurder wat aandui dat alle personeel verantwoordelik is vir gehaltediens aan studente en alle belangegroepe. Dit gaan oor die ervaring wat jy skep en dat mense jou sal kies bo openbare instellings met swak dienslewering en betogings.

Die data-analise het verder aan die lig gebring dat die term kwaliteit in die meerderheid gevalle deur bestuurders en studente gebruik word tesame met dienslewering. Vanuit ’n bestuursperspektief was die fokus van gehalte ten opsigte van kwaliteit om studentetevredenheid te verseker en tweedens kwaliteit as ’n onderskeidende faktor om mededinging te bevorder.

Bevindinge uit die studentegegewens het aangedui dat gehalte in dienslewering ’n positiewe invloed op die studente se siening van die standaarde van die instelling gehad het. Die studente het die woord kwaliteit gebruik wat afgewissel is met standaarde of hoë standaarde. Belangrike aspekte wat met dienslewering van gehalte verband hou, was die volgende: respek vir die instelling; die gevoel dat die instelling meer as in staat is om met openbare instellings mee te ding; die ondersteuningafstand wat studente via die aanlyn platform ontvang; die tydige terugvoer van akademiese personeel; die inhoud van die modules; sowel as die internasionale aanvaarding van aangebiede programme. Uit die gegewens is aan die lig gebring dat die instelling op kwaliteitdienslewering fokus as ’n manier om die instelling te onderskei van mededingers in die mark, maar ook om studentetevredenheid te verseker deur ’n studentgesentreerde benadering in hul dienslewering te gebruik. Stander (2017:89) het vasgestel dat private instellings meer gefokus is op studentetevredenheid en die bevrediging van studentebehoeftes in hul breër HO-funksie van onderrig en leer, sowel as op die algehele doeltreffendheid en effektiwiteit van hierdie instellings. Dienskwaliteit word deur Paul en Pradhan (2019:262) bevestig as die belangrikste dimensies van waarde wat ’n invloed op studentetevredenheid het. Vir die private instelling is studentetevredenheid belangrik, aangesien dit die volhoubaarheid van die ondernemingsgedrewe instelling verseker.

 

6. Beperkings van die studie

Die bevindings is gekontekstualiseer en kon nie na ander HOI’s veralgemeen word nie. Vanweë die beperkte gegewens oor die effek van TKB-implementering in HO is ’n verkennende gevallestudie geïmplementeer om uit deelnemers se siening te leer. Terwyl TKB egter steeds in die HO ontwikkel, sal dit meer resultate lewer, en daar kan verskillende gevolgtrekkings gemaak word.

 

7. Implikasies vir ’n private hoëronderwysinstelling

Uit die onderhoude het geblyk dat die waardeproposisie van ’n HOI ’n mededingende voordeel sal bied slegs as dit studente se behoeftes bevredig. Die sukses van private HOI’s is afhanklik van hul reputasie en die aanbied van programme en dienste van hoë gehalte. Dit is belangrik dat die instelling die nodige prosesse vir studentesteun het en dat die kliëntgesentreerde benadering na alle departemente binne die HOI deurgevoer word, aangesien dit die instelling van mededingers onderskei en ’n waardestelling vir die instelling vorm. Aanpasbare en buigsame prosesse is een van die voordele wat ’n private HOI inhou. Die voortdurende verbetering van prosesse om gehalte te verseker is dus moontlik. Wees egter versigtig om nie te gereeld te verander nie en om nie genoeg tyd in die herontwerpproses toe te laat vir belanghebbendes om aan die veranderinge gewoond te raak nie.

 

8. Gevolgtrekking

Nakoming van die regulatoriese raamwerk is ekstern tot die instelling, maar dra by tot die versekering van gehalte in private HOI’s. Dit word ervaar as ’n vorm van kwaliteitkontrole deur die instelling, en volgens studente se persepsie verseker dit standaarde en kwaliteit.

Die aanneming van TKB in ’n HOI het gelei tot ’n kliëntgerigte benadering tot diensaanbieding, asook deurlopende verbeterings in die diens wat aangebied word. Dit is belangrike elemente van kwaliteitsbestuur en die institusionele aanbod, en is ’n aanduiding van die belangrikheid van interne gehalteverbetering in teenstelling met eksterne gehaltebeheer.

Interne kwaliteitsmaatreëls is van wesenlike belang vir private instellings wat sakegedrewe is en is dus afhanklik van studentegetalle om hul bedrywighede te befonds. Die institusionele aanbod moet dus die mededingende voordeel vir die HOI skep, en die implementering van TKB-beginsels is die sleutel in hierdie proses. Kwaliteit word gedefinieer deur die instelling as kriterium te gebruik, en goeie bestuur deur ’n sentralebeheerbenadering word gesien as die oplossing vir die bereiking van organisatoriese effektiwiteit en doeltreffendheid. Die fokus moet wees op kwaliteit-insette vir die lewering van dienste aan studente.

Die beginsels van TKB, naamlik kliëntfokus, deurlopende verbetering, spanwerk, bestuursverbintenis, kommunikasie, assessering en terugvoering, is alles vasgestel in die onderhoude met die bestuur van die instelling. Deur middel van die analise van die antwoorde van die studente is daar bepaal dat die implementering van TKB die kwaliteit van dienslewering tot gevolg gehad het, wat ’n mededingende voordeel vir die private instelling in die mark is. Daar bestaan verskillende waardeproposisies wat die instelling aan studente kan bied en word ontwikkel as gevolg van die aanvaarding van ’n TKB-benadering in die bedrywighede van die instelling. Dit is belangrik vir die instelling om na die behoeftes van studente te kyk, want dit sal lei tot mededingende strategieë wat gevolg moet word. Dit is ook die posisioneringsinstrument wat die instelling gebruik om homself te onderskei van ander aanbieders in die sektor. As die gehalte-insette op die kliënt gefokus word, sal die waardeproposisie studente na die private instelling lok.

 

Erkenning

Die skrywer erken die hulp van Nelda Mouton (studieleier) met die skryf van hierdie artikel.

 

Bibliografie

Alani, F., Y. Yaqoub en M. Haman. 2014. Service quality in higher education – a case study of Universiti Brunei Darussalam. International Education Studies, 8(4):231–45.

Armstrong, L. 2014. Changing times in higher education viewed through the prism of the business model. http://www.changinghighereducation.com/2014/12/new_business_model_view_of_change_in_higher_education.html (10 September 2018 geraadpleeg).

Bryman, A., E. Bell, P. Hirschsohn, A. dos Santos, J. du Toit, A. Masenge en I. van Aardt. 2017. Research methodology: business and management contexts. Londen: Oxford University Press.

Burke Johnson, R. en L.B. Christensen. 2014. Educational research: quantitative, qualitative and mixed approaches. 5de uitgawe. Thousand Oaks, CA: Sage.

CHE (Council on Higher Education). 2004. Annual report 2004–2005. https://www.che.ac.za/#/docview (16 Mei 2021 geraadpleeg).

Creswell, J.W. 2009. Research design: qualitative, quantitative and mixed methods approaches. 3de uitgawe. Thousand Oaks, CA: Sage Publications.

DHET (Department of Higher Education and Training). 2013. White paper for post-school education and training. http://www.dhet.gov.za/SiteAssets/Latest%20News/White%20paper%20for%20post-school%20education%20and%20training.pdf (25 September 2019 geraadpleeg).

—. 2016. Regulations for the registration of private higher education institutions. http://www.dhet.gov.za/Private%20Higher%20Education%20Institutions/Regulations%20for%20the%20Registration%20of%20Private%20Higher%20Education%20Institution,%202016.pdf (28 September 2019 geraadpleeg).

—. 2018. Register of private higher education institutions. http://www.dhet.gov.za/SitePages/DocRegisters.aspx (25 September 2019 geraadpleeg).

Ellis, M.E. en G.M. Steyn. 2014. Managers’ perceptions of regulatory legislation of private higher education in South Africa. International Journal of Education Sciences, 6(3):445–58.

Gentles, S.J., C. Charles, J. Ploeg en K.A. McKibbon. 2000. Sampling in qualitative research: insights from an overview of the methods literature. The Qualitative Report, 20(11):1772–89.

Goetsch, D.L. en S.B. Davis. 2014. Quality management for organizational excellence. Upper Saddle River: Pearson.

Henning, E. 2018. Finding your way in qualitative research. Pretoria: Van Schaik.

Hornsby, D.J. en R. Osman. 2014. Massification in higher education: large classes and student learning. Higher Education, 67(6):711–9.

Ibrahim, J. en A.R.A. Dahlan. 2016. Designing business models options for “University of the Future”. In Mohammed, Mohamed, Mohammed en Badr (reds.), 4th IEEE International Colloquium on Information Science and Technology, CiSt 2016, Tangier, Marokko, 24–26 Oktober, ble. 600–3.

Khan, U.R., S. Khan, S.M. Aslam, S. Mateen en N. Punhal. 2018. Total quality management in education. Dalam international Journal of Science and Business, 2(2):182–97.

Khoo, S., H. Ha en S.L.T. McGregor. 2017. Service quality and student/customer satisfaction in the private tertiary education sector in Singapore. International Journal of Educational Management, 31(4):430–44.

Lichy, J.E. en C. Birch (reds.). 2015. Advanced business models in international higher education. Newcastle upon Tyne: Cambridge Scholars Publishing.

Luckett, K. 2007. The introduction of external quality assurance in South African higher education: an analysis of stakeholder response. Quality in Higher Education, 13(2):97–116.

Manatos, M.J., C. Sarrico en M.J. Rosa. 2017. The integration of quality management in higher education institutions: a systematic literature review. Total Quality Management and Business Excellence, 28(1):159–75.

Miller, K., M. McAdam en R. McAdam. 2014. The changing university business model: a stakeholder perspective. R&D Management, 44(3):265–87.

Newman, V. 2015. Using business model stereotypes to explore strategic innovation in higher education. In Lichy en Birch (reds.) 2015:5–22.

Paul, R. en S. Pradhan. 2019. Achieving student satisfaction and student loyalty in higher education: a focus on service value dimension. Service Marketing Quarterly, 4(3):245–268.

Sallis, E. 2014. Total quality management in education. 3de uitgawe. New York, NY: Routledge.

Saunders, M., P. Lewis en A. Thornhill. 2009. Research methods for business students. 5de uitgawe. Londen: Pearson.

Silverman, D. en A. Marvasti. 2008. Doing qualitative research: a comprehensive guide. Londen: Sage.

Stander, E. 2017. Managing quality assurance in private higher education institutions in South Africa. PhD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Sutin, S.E. 2016. Reforming higher education from within: lessons learned from other mature sectors of the economy. International Journal of Educational Development, 58:18–25.

Thaver, B. 2006. Quality assurance in higher education: navigating the market/equity tension. South African Journal of Higher Education, 20(6):859–66.

Thobega, M. 2010. Enhancing quality of tertiary education through programme accreditation: a case of Botswana. Procedia – Social and Behavioral Sciences, 2(2):2637–41.

Tomlinson, M. 2018. Conceptions of the value of higher education in a measured market. Higher Education, 75(4):711–27.

Vaismoradi, M., H. Turunen en T. Bondas. 2013. Content analysis and thematic analysis: implications for conducting a qualitative descriptive study. Nursing and Health Sciences, 15(3):398–405.

Van Schalkwyk, R.D. 2018. A total quality service framework for private higher education in South Africa. MPhil-verhandeling, Universiteit van Suid-Afrika.

Van Schalkwyk, R.D. en R.J. Steenkamp. 2016. A top management perspective of total quality service dimensions for private higher education institutions in South Africa. Southern Business Review, 20(1):577–99.

Wehn, U., A.I. Gershberg en J.T.G. Contreras. 2017. University business models and value propositions in the digital age. Referaat aangebied by The digitalization of the University of the Future, Duitsland, 11–13 Julie 2017.

Yin, R.K. 2009. Case study research. Design and methods. 4de uitgawe. Thousand Oaks, CA: Sage.

 

Eindnota

1 Verwys asseblief alle korrespondensie na Liana Venter.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Die gebruik van totale kwaliteitsbestuur in die aanpassing van kwaliteit van aflewering: ’n gevallestudie in private hoër onderwys appeared first on LitNet.

Hip-hop, onreg en agentskap: Isaac Mutant van Dookoom as Bolandse badman-figuur

$
0
0

Hip-hop, onreg en agentskap: Isaac Mutant van Dookoom as Bolandse badman-figuur

Annie Klopper, Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit van Wes-Kaapland

LitNet Akademies Jaargang 18(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming 

Die Suid-Afrikaanse hip-hop-groep Dookoom se rap-lied “Larney, jou poes”, wat die ongunstige omstandighede en frustrasies van Bolandse plaasarbeiders asook algemene geskiedkundige ongeregtigheid aanspreek, het met die vrystelling daarvan in 2014 tot groot omstredenheid sowel in die formele media as op sosiale media gelei. In hierdie artikel word dié lied se lirieke en musiekvideo beskou met inagneming van die aard en etos van hip-hop as mondelinge praktyk wat gewortel is in ’n langdurige geskiedenis van swart onderdrukking en verband hou met die skepping van agentskap te midde van hierdie onderdrukking. ’n Ontleding van “Larney, jou poes” sal demonstreer hoe bewuste hip-hop funksioneer as ruimte waarbinne plaaslike gemarginaliseerde sosiopolitieke werklikhede, en onreg in die algemeen, belig word.

As teoretiese agtergrond vir hierdie ondersoek word die begrip glokalisering ingespan. Hiervolgens word hip-hop beskou as ’n medium wat globaal versprei het, maar aangepas word om plaaslike (lokale) belange te artikuleer (Neate 2004:96). Die ontstaan en geskiedenis van hip-hop in New York – asook die toe-eiening daarvan in Suid-Afrika – word dan bespreek om agtergrond te verskaf van die simboliese gereedskap daaraan verbonde. In laasgenoemde verband word spesifiek die figuur van die badman in rap bespreek. Dié simbool dateer uit rap se voorgeskiedenis, en wel uit die Amerikaanse slawetydperk waartydens dit ’n rol gespeel het in selfbehoud en as ondermyning van die verdrukker se narratief, en dit hou met ander woorde verband met die daarstelling van agentskap binne ’n gemarginaliseerde ruimte (Nyawalo 2013:469–72). Uiteindelik word daar dan aangedui hoe die figuur van die badman in “Larney, jou poes” se lirieke en meegaande musiekvideo deur Dookoom se hoof-rapper Isaac Mutant perform word, en geredeneer dat hip-hop hier op plaaslike vlak ingespan word om die eeue lange uitdagings van gemarginaliseerdes aan die groot klok te hang en simboliese agentskap te bewerkstellig te midde van sosiopolitieke onreg.

Trefwoorde: Afrikaanse rap; badman; Dookoom; “Larney, jou poes”; Isaac Mutant; Suid-Afrikaanse hip-hop

 

Abstract

Hip hop, injustice and agency: Dookoom’s Isaac Mutant as Boland badman figure

The 2014-release of South African hip hop outfit Dookoom’s rap song “Larney, jou poes” (Fuck you, white boss) which comments on the unfavourable circumstances and frustrations of farm workers in the Boland wine district in particular, as well as historical injustices suffered by disenfranchised South Africans in general, led to widespread controversy in the formal media as well as on social media platforms. The song’s music video especially attracted a lot of media attention and provoked fervent debates due to its depiction of angry coloured farm workers igniting the land of a white farmer which – coupled with the threatening lyrics “jou poes, my larney / jy kan my nie vertel nie” (fuck you, white boss / you can’t tell me what to do) – led to civil rights organisation AfriForum labelling it as hate speech and laying a charge against the band at the South African Human Rights Commission. Critics of the song argued that it incites violence whilst some analysts tried to make sense of the way in which the song highlights the deeply polarised South African socio-political context within which it originated.

“Larney, jou poes” came into being against the backdrop of historic injustices of the South African past including colonialism, the slave trade, seizure of land from indigenous communities by white settlers, and formalised racism in the form of apartheid, of which the effects today continue to be exemplified in the South African wine farming industry, an industry with a “deep-seated racialised hierarchy which has kept white landowners prosperous and black labourers dependant and impoverished” (Howson 2019:4). In the case of “Larney, jou poes” rap is utilised to comment on and expose these injustices suffered by marginalised communities. With the aim of adding to local hip hop discourse and establishing a nuanced understanding of the song and music video, this article takes into account not only these historical realities but also the history and ethos of hip hop and rap.

Rap is an element of hip hop, a cultural form that evolved during the 1970s among the socio-politically and economically marginalised youth of New York’s South Bronx (Rose 1994), and that is rooted in a longstanding history of black oral culture (Nyawalo 2013; Ramsey 2003; Wald 2012). Due to this history hip hop carries with it certain “symbolic tools of identity” (Neate 2004:107) to be utilised in the creation of agency through song and performance, especially in so-called conscious hip hop. This symbolic ethos is entrenched in conscious hip hop and functions in “Larney, jou poes”. In this article, it is argued that particularly the symbolic figure of the badman resonates in emcee Isaac Mutant’s lyrics and performance. The mythical figure of the badman predates rap in Afro-American oral culture, and can be traced back to the American slave era where it played a role in self-preservation and in the undermining of the oppressor’s narrative; it is therefore instrumental in the creation of agency within oppressing, marginalising circumstances (Nyawalo 2013:469–72).

The song’s lyrics and music video are therefore explored by considering the nature and ethos of hip hop as oral practice rooted in a long history of black oppression, and as one that plays a role in the creation of agency within these oppressive circumstances. This analysis of “Larney, jou poes” demonstrates how conscious hip hop functions as a space within which local marginalised socio-political realities – and the suffering of injustice in general – are highlighted.

As theoretical framework for this discussion, the concept glocalisation is employed, whereby hip hop is viewed as a globalised medium which is locally adapted to meet local realities and where it assumes a distinctive local character (Neate 2004:85, 96). In other words, by employing the “symbolic tools of identity” (Neate 2004: 107) which are harboured within this globalised genre, local issues are tackled and exposed (cf. Urla 2001:173, 185). This is indeed the case in the South African context, where hip hop was first employed during the 1980s by the disenfranchised youth of the Cape Flats (cf. Haupt 1996, 2004) as platform for the articulation of identity due to the shared experience of socio-economic and political marginalisation and oppression which underlay American hip hop (Künzler 2011:28, 41; cf. Rose 1994:21).

In this sense South African hip hop has demonstrated the glocal nature of this art form since its earliest inception. By employing a glocal view of hip hop in the analysis of “Larney, jou poes”, light is thus not only shed on the song (and performance in the accompanying music video) but on the functioning of hip hop itself.

Ultimately it is argued that the figurative performance of the badman is employed by Dookoom’s lyricist Isaac Mutant in the lyrics and music video of “Larney, jou poes”, and argued that hip hop is productively employed here on local level to address centuries of challenges faced by marginalised groups in South Africa. In doing so the song establishes symbolic agency within a historically unjust system.

Keywords: Afrikaans rap; badman; Dookoom; Isaac Mutant; “Larney, jou poes”; South African hip-hop

 

1. Inleiding1

Farmer Abrahams had many farms
Many farms had Farmer Abrahams
I work one of them and so do you
So let’s go burn them down

Só lui die inleidende vers deur emcee2 Isaac Mutant uit die omstrede Afrikaans-Engelse rap-lied3 “Larney,4 jou poes”5 (2014) van die Kaapse hip-hopgroep Dookoom, waarin die benarde toestand en frustrasies van Bolandse6 wynplaasarbeiders blootgelê word. Nie slegs word daar in dié lied kommentaar gelewer oor die armoedige omstandighede wat bruin plaaswerkers in die gesig staar terwyl wit boere munt slaan uit dekades se gedwonge en goedkoop arbeid nie, maar in die lirieke word die diepliggende geskiedenis en gevolge van rasse-onderdrukking in Suid-Afrika aangespreek; Jan van Riebeeck en die Nasionale Party spring dit nie vry nie. Uiteindelik handel die lied oor onreg en onderdrukking in die algemeen.

In “Larney, jou poes” se meegaande musiekvideo (https://www.youtube.com/watch?v=kmgpDostEqk) word ’n toneel uitgebeeld waar ’n woedend-rappende Mutant in sy optrede ’n groep gewapende bruin arbeiders opstook tot opstand jeens die karakter van ’n wit plaasboer, met die uiteinde dat ’n heuwel op die plaas met vlammende motorbande aan die brand gesteek word terwyl die woord Dookoom7 dan onheilspellend in die vuur verskyn.

Hierdie onthutsende simboliese gegewens, tesame met die lied se bytende refrein “jou poes, my larney / jy kan my nie vertel nie”, het met die vrystelling van die snit wydverspreide aandag in die media ontlok en ook tot vurige polemiese debatte op sosialemediaplatforms gelei. In die formele mediaresepsie van die lied (vgl. o.m. Blignaut en Koen 2014; Blignaut en Willemse 2014; Brown 2014; Buys 2014; Gqola 2014; Koen 2014; Lloyd 2014; Marais 2014; Petersen 2014) het die bespreking daarvan hoofsaaklik gewentel rondom die Suid-Afrikaanse gepolariseerde sosiopolitieke konteks waarop daar in die lied kommentaar gelewer word. Daar word in hierdie beriggewing, besprekings en onderhoude dikwels verwys na kritici wat meen dat die lied en video brandstigting en geweld op plase aanhits, en daar word onder meer ook melding gemaak van die burgerregte-organisasie AfriForum wat dit as haatspraak bestempel en ’n klag daarteen by die Menseregtekommissie ingedien het,8 terwyl die skeppers van die lied dit in onderhoude verdedig. Besprekings van die lied op sosialemediaplatforms, soos in die kommentaarafdeling van die musiekvideo op YouTube, is grootliks ’n twissiek poespas van legio uiteenlopende menings wat wissel tussen lof, venyn en blatante rassisme.

In die beperkte aandag wat hierdie rap-lied in die akademiese milieu gekry het, word daar ook gefokus op die manier waarop dit sosiopolitieke kwessies aanraak. In sy breedvoerige studie oor die dinamiek van wisselwerking tussen populêre Afrikaanse musiekopnames en die plaaslike samelewing tussen 1900 en 2015 meen Van der Merwe (2015:239–40) dat ’n lied soos “Larney, jou poes” die kompleksiteite van aggressiewe rassepolitiek in Suid-Afrikaanse postapartheidmusiek ondersteun en dat dit die sosiale en wetlike9 parameters van kreatiewe uitdrukking, asook die sensurering van sodanige protes en die legitimiteit van protes beproef. Van der Merwe (2015:240) reken verder dat dié lied op die groeiende spanning binne Suid-Afrika as kultureel meervoudige samelewing dui. Dan is daar ook Wepener (2015:1–2) wat die lied betrek by sy (prakties teologiese) bespreking as een van vele merkers van die heersende woedevlakke onder Suid-Afrikaners. Howson (2019:1–2) daarteenoor gebruik die lied as treffende wegspringpunt in haar bespreking van etiese waardenetwerke en die koloniale onbewuste (colonial unconscious) in die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Ook sy wys op die steeds heersende polarisasie wat onthul word in die debatte oor die lied, en reken:

The twenty-first century assumption that the playing field has been levelled in South Africa in fact serves to obscure apartheid’s legacy of inequality and disenfranchisement, allowing groups like AfriForum to un-ironically accuse Dookoom of racism.

Moses sluit (2019) Dookoom in by sy studie van die uitdrukkings van bruin identiteit in Kaaps-gebaseerde hip-hop. Moses (2019:150) beskou “Larney, jou poes” as ’n hip-hop-lied “within the lineage of early, politically conscious Cape Town hip-hop (exemplified by groups like Prophets of da City, Brasse Vannie Kaap, and Black Noise)”. Hy beskou dit dus in ooreenstemming met die sogenaamde bewuste plaaslike hip-hop wat dit voorafgegaan het in Kaapstad (waar plaaslike hip-hop ontspring het), ofskoon ek redeneer dat die spesifieke tema van hierdie lied verby die grense van Kaapstad na die Boland strek, terwyl die breër tema ’n lang geskiedenis van onreg aanspreek.

Die ongemak en omstredenheid wat in 2014 rondom hierdie rap-lied geheers het, het die genoemde tema(s) van dié proteslied op openbare platforms in die kollig geplaas. Soos Marais (2014:11) egter tereg uitwys, het protesmusiek nie noodwendig ’n direkte gevolg wanneer dit kom by beleidsverandering of revolusie nie, maar tog speel dit ’n onontbeerlike rol in die bewusmaking van sosioëkonomiese of politieke ongeregtigheid; in hierdie geval die jarelange ellende van Suid-Afrikaanse plaasarbeiders binne ’n geskiedkundige bestel van onderdrukking en sosioëkonomiese ongelykheid.

Maar terwyl die betekenis en impak van die lied, soos beskou binne die Suid-Afrikaanse konteks, heelwat aandag ontvang het, is daar ’n gaping in die diskoers daaroor. Weinig van die debatte daaromtrent het die globale en geskiedkundige etos van hip-hop in ag geneem, en hoe dit skakel met ’n diepliggende geskiedenis van swart mondelinge praktyke te midde van eeue lange sosiokulturele en ekonomiese onderdrukking oor die wêreld heen. Sogenaamde bewuste rap-musiek word al vir dekades lank gebruik as mondstuk om sosiale onreg en marginalisering in die openbare (en populêre) domein openlik aan te spreek (vgl. Klopper 2016; 2017a:22, 48 en Stapleton 1998:223–4).

Deur te delf in die ontstaansgeskiedenis van hip-hop (en rap) en die etos wat geskiedkundig daaraan verbonde is, sal ek vervolgens nuwe invalshoeke ontsluit waaruit “Larney, jou poes” op meer onthullende en genuanseerde wyses geïnterpreteer kan word. My redenasie is dat die lied beskou moet word vanuit sowel ’n plaaslike as geskiedkundige globale konteks ten einde sin te kan maak uit die betekenis en impak daarvan, omdat hip-hop in wese glokaal van aard is (Neate 2004:85) en omdat Suid-Afrikaanse hip-hop van sy ontstaan af reeds ’n glokale karakter gehad het (kyk Klopper 2017a:52). Met ander woorde, dis ’n globale verskynsel wat op plaaslike (lokale) vlak aangepas word om te voldoen aan plaaslike vereistes, waar dit dan ook ’n plaaslike karakter verkry (Neate 2004:85, 96). Plaaslike kwessies word aangepak deur die gebruik van die kerneienskappe wat dié geglobaliseerde genre as simboliese identiteitsgereedskap aanbied (Neate 2004:107; vgl. ook Urla 2001:173, 185). Hierdie invalshoeke tot die bespreking van “Larney, jou poes” sal dan ook tot gevolg hê dat daar meer te wete gekom kan word oor hoe hip-hop en rap op sigself funksioneer.

Een sentrale simboliese tegniek wat spruit uit die voorgeskiedenis van hip-hop en produktief ingespan word in “Larney, jou poes” – en veral soos vergestalt in die meegaande musiekvideo – is Mutant se performance van die sogenaamde badman-figuur. Soos verder hier onder bespreek sal word, funksioneer die badman as simboliese tegniek in rap met die doel om, te midde van teenstand en onderdrukking, mag en agentskap daar te stel (kyk Nyawalo 2013). Hierdie simboliek is gewortel in ’n swart mondelinge geskiedenis wat veel verder terug strek as die ontstaan van hip-hop as populêre kultuurverskynsel gedurende die 1970’s in die Verenigde State van Amerika (VSA), of die appropriasie daarvan in Suid-Afrika in die 1980’s.

Vervolgens word Dookoom se “Larney, jou poes” (2014) ondersoek deur die lirieke en musiekvideo opnuut onder die loep te plaas. Ten einde ’n omvattende ondersoek na die betekenis en impak van die lied te loods, is dit noodsaaklik om eers kennis te neem van die ontstaansgeskiedenis van hip-hop (en rap) en die gepaardgaande simboliese etos en identiteitsgereedskap (vgl. Neate 2004:107) daaraan verbonde. Dus word daar eers ’n (beknopte) oorsig van dié ontstaan en kenmerke van die kunsvorm gegee as agtergrond tot die verdere ontleding van die betrokke rap-lied. Daar word dan ook gekyk na die aanvang en verbreiding van hip-hop op Suid-Afrikaanse bodem, veral waar dit die eerste keer in die Kaap saadgeskiet het, asook na die huidige diskoers oor plaaslike rap, ten einde by hierdie gesprek aan te sluit in die daaropvolgende ontleding van Dookoom en “Larney, jou poes” se lirieke en musiekvideo in die besonder.

 

2. ’n Beknopte oorsig oor die ontstaansgeskiedenis, aard en verbreiding van hip-hop

2.1 Aanvang en aard van hip-hop en rap

Die hip-hop-kultuur is al dekades lank ’n populêre en gevarieerde verskynsel oor die wêreld heen. Jongmense van Kalifornië tot die Kaapse Vlakte gebruik dit as manier om hulleself, hulle lewensruimtes, daaglikse ervarings en werklikhede tot uiting te bring, en vanweë die globale populariteit daarvan, word dit dikwels ook ingespan vir kommersiële gewin, veral deur die gebruik van rap in populêre musiek.

Rap is, eenvoudig gestel, die vertel van stories in versvorm op die maat van hoogs ritmiese, elektroniese musiek (Rose 1994:2; vgl. ook Bradley 2009:161). Rap is seker die mees prominente, bekende en kommersieel suksesvolle element van die hip-hop-kultuur, maar dit is slegs ’n enkele deel daarvan. Volgens Rose (1994:2) is daar drie elemente aan hip-hop verbonde: rap, graffiti en breakdancing. Ander voeg ’n vierde element hierby, naamlik turntablism, oftewel die gebruik van draaitafels deur ’n platejoggie (vgl. byvoorbeeld Neate 2004:98; Herc in Chang 2006:xi). Volgens sommige sogenaamde bewuste hip-hoppers is daar ’n vyfde (kern)element, naamlik kennis van die self (kyk bv. Gosa 2015:56–70 en Mr Fat in Neate 2004:119). Rap behou in die meeste instansies ’n wesenlike verhouding met dié etos van hip-hop, veral waar dit aankom op bewuste (“conscious”) rap. Die rede hiervoor hou ten sterkste verband met die sosiopolitieke en ekonomiese kantruimte waarbinne hip-hop vorm gekry het.

Hip-hop het ontstaan in die middel-1970’s onder die gemarginaliseerde swart Amerikaanse jeug in New York se suidelike Bronx, waar dit ontwikkel het as ’n meganisme van uitdrukking en identiteit (Rose 1994:2 e.v.; vgl. ook Upshal 1999 en Chalfant, Martínez en Zeitlin 2006). Die New Yorkse Bronx was in die 1970’s ’n tuiste van veral swart Amerikaners, Spaans-Amerikaners (Hispanics) en Karibiese immigrante wat vele uitdagings die hoof moes bied, soos misdaad, armoede, kwynende sosiale dienste, ’n gebrek aan werksgeleenthede, gedwonge verskuiwings te midde van snelle stedelike ontwikkeling, en sosiale en politieke ongelykheid (vgl. Rose 1994:27 en Chang 2006:10–9, 41–65).

Die sosiopolitieke en ekonomiese omstandighede van die swart en Spaans-Amerikaanse jong stedelike werkersklas in die 1970’s was dus besonder onstabiel en uitdagend, maar die hoofstroom- swart popmusiek van dié tyd, naamlik disko, het nie tot die werklikheid van hulle lewens gespreek nie (Upshal 1999). Daar was ’n leemte in terme van identifikasie met ’n kultuur- en musiekvorm wat hierdie werklikhede aanspreek, en hip-hop sou daardie leemte vir baie jongmense kom aanvul (Upshal 1999).

Terwyl hip-hop verrys het vanuit komplekse sosiopolitieke omstandighede van ontnugtering en vervreemding (Rose 1994:59), het spesifieke kulturele elemente ook bygedra tot die ontstaan daarvan. Die Bronx was in daardie tyd ’n plek met ’n lewendige stadskultuur geskoei op die vermenging van vele ingevoerde en plaaslike kulturele elemente, en die tuiste van individue wat ’n noemenswaardige rol gespeel het in die ontstaan van die hip-hop-kultuur, onder andere DJ Kool Herc, Afrika Bambaataa en Grandmaster Flash10 (Klopper 2017a:31; vgl. ook Brewster en Broughton 2006:230–52, Chalfant e.a. 2006; Chang 2006:90 e.v.). Die gewildheid van partytjies soos dié van Herc, Flash en Bambaataa en die gepaardgaande nuwe kultuurbeweging wat mettertyd as hip-hop bekend begin staan het, het aan die jeug in die Bronx, waar bendes ’n groot rol in identiteitsvorming gespeel het, ’n alternatiewe ruimte gebied vir identifikasie en die skep van hiërargieë (vgl. Chang 2006:82). Hierdie platejoggies het hulle ambag vernuwe met ’n eksperimentele aanslag, en het groot skares gelok na hulle partytjies. In dié sin het die oorsprong van hip-hop benewens politiek ook te make met pret en plesier (Brewster en Broughton 2006:251, 255).

Rap, soos ons dit oor die algemeen vandag ken, het stelselmatig by hierdie Bronx-partytjies ontwikkel. DJ Kool Herc, ’n Karibiese immigrant, was waarskynlik die eerste om mikrofone te koppel aan ’n eggo-toestel wat dan deur hom en sy crew (die groep of kliek wat saam met hom begin optree het) gebruik is om uitroepe (shout-outs) en rympies aan die begin van liedjies te maak (vgl. Chang 2006:78, 81–2). Hierdie gebaar was gesetel in die mondelinge praktyk van die toast soos Herc dit as kind in Kingston, Jamaika, waargeneem het, en het verskil van die kenmerkende uitroepe van die disko-platejoggies van daardie era (Chang 2006:78), hoewel die manier waarop disko-platejoggies aankondigings gedoen het, ook ’n noemenswaardige rol gespeel het in die ontwikkeling van rap (kyk Williams 1995:21 en Bradley 2009:125).

In die volgende onderafdeling (2.2) word die toast en die invloed daarvan op rap van nader beskou, veral met die fokus op die sogenaamde badman-toast en hoe dit dan uiteindelik neerslag vind in ’n rap-lied soos “Larney, jou poes”. Tog moet daar genoem word dat rap voortvloei uit ’n langdurige (en steeds voortdurende) Afro-Amerikaanse mondelinge tradisie, en as kunsvorm ontluik het te danke aan ’n verskeidenheid mondelinge gebare (vgl. Ramsey 2003:165 en Wald 2012:115) waarvan die toast asook die dozens (’n verbale wedstryd van beledigende kwinkslae)11 opvallende invloede blyk te wees.

Weens die kulturele en narratiewe resonansie daarvan, het die gewildheid van hip-hop ná die ontwikkeling daarvan in die Bronx in die 1970’s spoedig gegroei en uitgebrei na die ander dele van die New Yorkse metropool (Rose 1994:60; vgl. ook Upshal 1999). Meer en meer mense het ook begin rap, en – weens die mededingende en aanpasbare aard daarvan – het rap-tegnieke gou gevarieerd en gesofistikeerd geword. Aanvanklik was rap beperk tot informele optredes en amateur-bandopnames wat by hip-hop-partytjies gemaak is (wat terloops gehelp het om rap as kultuurverskynsel verder te versprei), maar teen 1979, te midde van die groeiende gewildheid van hip-hop, is die eerste kommersiële opname van ’n rap-liedjie uitgereik, naamlik “Rapper’s delight” deur The Sugarhill Gang.12 Anders as latere opnames van bewuste rap, soos byvoorbeeld dié van Grandmaster Flash and the Furious Five in “The message” (1982) wat daarop sou volg, het “Rapper’s delight” nie sosiale kritiek gelewer nie. Tog het dit ’n era van kommersiële rap-opnames ingelui (Bradley 2009:17; Rose 1994:56). Kort daarna sou meer opnames van bewuste of sosiaal-kritiese rap-liedjies volg, soos byvoorbeeld dié van Public Enemy en KRS-One (Stapleton 1998:223–4).

Binne die dekade ná hip-hop se ontstaan in New York het al hoe meer gemarginaliseerde gemeenskappe in ander Amerikaanse stede aanklank daarby gevind weens gedeelde ervarings van ekonomiese en sosiale vervreemding van hulle stedelike omgewing, en het hulle hierdie kultuurvorm geapproprieer om hulle spesifieke plaaslike ervarings mee te beskryf en aan te spreek (Rose 1994:60). Mettertyd het rap behoorlik vaart gekry as opgeneemde genre en het dit sowel deur die VSA as vanaf die VSA na ander lande verbrei waar dit binne die plaaslike kontekste van verskillende kulture op verskeie maniere geapproprieer en aangepas is. Vandag word daar feitlik op elke vasteland gerap, in verskillende tale en oor verskillende kwessies – ’n eienskap waarvoor Neate (2004:96) die term glokaal inspan, want volgens hom is hip-hop “a globalised medium that is locally adapted to articulate local concerns”.

Robertson (1997) was waarskynlik die eerste om die begrip glokalisering in die sosiale wetenskappe bekend te stel as reaksie op die neiging in die 1990’s om globalisasie te beskou as proses wat homogenisasie tot gevolg het – oftewel die aanname dat globalisasie ’n proses is “which overrides locality” (Robertson 1997:26). In die begrip glokalisering word nie net globalisasie nie, maar ook die rol van die plaaslike in ag geneem. Robertson (1997:26, 30) voer aan dat die beskouing van kultuurgebruike deur die lens van glokalisering (eerder as globalisasie) ’n manier is om ’n balans te vind op die kruispunt tussen die universele en die spesifieke.

Ofskoon hip-hop dus ’n kultuurvorm is wat oorspronklik uit Amerika oor die wêreld heen versprei het, strek die globale belang van hip-hop – gesien vanuit ’n glokale oogpunt – dus verby die identifikasie met hip-hop as swart Amerikaanse kultuurproduk (vgl. Pennycook 2003 en Pennycook en Mitchell 2009). Nietemin behou hip-hop ’n globale simboliese reputasie wat op plaaslike vlak deur verskillende groepe van toepassing gemaak kan word op hulle spesifieke sosiopolitieke kontekste. So word hip-hop verbrei na ander lande om elders die stem van ’n vervreemde, verontmagtigde jeug (Neate 2004:4) te word, insluitende in Suid-Afrika. Op plaaslike vlak word dit in die proses dan ook deel van die voortsetting van plaaslike mondelinge tradisies (Pennycook en Mitchell 2009:34).

2.2 Die diep wortels van rap: die invloed van die badman-toast

Terwyl bostaande beknopte oorsig oor die ontstaansgeskiedenis van hip-hop – met rap as element daarvan – fokus op die manier waarop dit as kultuurverskynsel vorm aangeneem het, word daar veel meer oor hierdie verskynsel onthul indien kennis geneem word van die swart mondelinge tradisies wat dit voorafgegaan het en vandag nog ’n voedingsbron daarvoor is. Die verband tussen rap en geskiedkundige swart mondelinge praktyke soos die toast, is gewis (vgl. Brewster en Broughton 2006:232; Bradley 2009:181–90), en inagneming daarvan, veral die oorsprong en simboliese kapitaal van die badman-toast, sal help om die lirieke van en performance in “Larney, jou poes” op ’n genuanseerde wyse te ontleed.

Die toast is ’n mondelinge gebaar uit die Afro-Amerikaanse kultuur. Dit is ’n soort narratiewe kortverhaal wat in digmaat vertel word vanuit die eerstepersoonsperspektief (Nyawalo 2013:460), en besing dikwels die dade van berugte skurke (outlaws), pierewaaiers (pimps) en straatknoeiers (street hustlers), met moord en doodslag as bekende temas (Bradley 2009:181–90; vgl. ook Brown s.j.). Die toast word deur Rose (1994:55) beskryf as “a boastful, bragging, form of oral storytelling sometimes explicitly political and often aggressive, violent and sexist in content”. Soos in die geval van baie rap-liedjies, vertel die toast gewoonlik hoe die lydende party, die sogenaamde underdog, oor sy teenstanders seëvier (Bradley 2009:181–90), wat dan ook die geval is in “Larney, jou poes”, waar die rapper simbolies seëvier oor die onderdrukkers (meer hieroor volg in onderafdeling 3.3).

Die agtergrond vir die ontwikkeling van die toast lê – soos rap – by onderdrukking. Volgens Nyawalo (2013:469–72) het die badman-toast tydens die era van slawerny ’n rol gespeel in selfbehoud en as ondermyning van die verdrukker se narratief, en hou dit met ander woorde verband met die daarstelling van agentskap binne ’n onderdrukkende sosiale stelsel of gemarginaliseerde ruimte. Bradley (2009:191) vergelyk in hierdie sin die toast en rap, en betoog: “Like the toasts, rap often relies upon the construction of a larger-than-life persona, an outlaw hero with superhuman aptitudes and appetites.” Hierdie “outlaw hero”, sal ek later aanvoer, vind neerslag in Isaac Mutant se anti-establishment-performance in Dookoom se “Larney, jou poes”.

In die toast-narratief is daar veral een mitologiese “outlaw hero” oftewel badman-figuur wat voortdurend herhaal en ook vandag nog – hetsy eksplisiet of implisiet – figureer in rap, naamlik die legende van Stagolee. Stagolee (ook genoem Stackolee, Stack Lee of Stagger Lee) is ’n mitologiese badman wat as ’t ware geëts is in die swart Amerikaanse folklore en hip-hop-kultuur. Die legende van Stagolee dateer volgens Brown (s.j.) uit min of meer dieselfde era as die beginjare van die blues, en meer spesifiek uit 1895 toe Lee Shelton (’n pimp en leier van ’n groep genaamd die Stags) ’n teenstander in ’n kroeg in St. Louis doodgeskiet het ná ’n geskil oor ’n hoed. Ná die moord het ’n ballade oor Stagolee se dade deur die suide en weste van Amerika begin versprei. Hierdie verhaal van Stagolee het toe legendariese dimensies aangeneem en later ook gestalte gekry in folk-, blues- en rock-liedjies, en volgens Brown (s.j.) het hierdie mite ook ’n groot rol te speel gehad in die manier waarop die skurk of gangsta later in hip-hop gestalte sou vind.

Brown (s.j.) is van mening dat daar weens die opkoms van die toast-tradisie gedurende die 1960’s ’n verandering gekom het in die manier waarop Stagolee se legende oorgedra is: waar dit eers in die derde persoon vertel is, het dit mettertyd verskuif na die eerstepersoonsperspektief. Deur die Stagolee-storie as ’n toast oor te dra, benadruk Brown, neem die spreker die rol van Stagolee aan, met ander woorde die spreker doen homself voor as die held van die verhaal: “Asserting themselves as bullies and bad men, young black men ‘perform’ Stagolee.” Só, in die persona van Stagolee, kom die spreker magtig en charismaties voor (Brown s.j.). Brown meen verder dat rappers in die 1980’s, wat hy beskou as die nakomelinge van orale digters, die narratiewe struktuur van Stagolee se storie begin gebruik het as grondslag vir hulle eie persoonlike narratiewe. Hierdie legende kan dus beskou word as die argetipe vir die badman in rap.

Die langdurige swart mondelinge praktyk van die badman-toast onderlê dus hip-hop en rap as simboliese meganisme in die daarstelling van agentskap13 te midde van onderdrukking. Die eggo daarvan kan vandag nog in rap waargeneem word, ook in “Larney, jou poes”. In onderafdeling 3.3 word die simbool van die badman in hierdie lied, en die visuele merkers daarvan in die meegaande musiekvideo ondersoek, maar eers is dit nodig om hierdie groep en lied in ’n nouer konteks van plaaslike hip-hop-geskiedenis te plaas.

2.3 Vroeë hip-hop in Suid-Afrika

Namate Amerikaanse hip-hop in die laat 1980’s en vroeë 1990’s al hoe meer versprei het binne die VSA, het dit meer hibried en gevarieerd geword, en ook verbrei na ander lande, insluitende Suid-Afrika. Hier was die eerste plaaslike toe-eiening daarvan in die vroeë 1980’s sigbaar in die vorm van graffiti op die Kaapse Vlakte (Klopper 2000:180–1; Künzler 2011:28; Watkins 2012:58; kyk ook Badsha 2003). Mettertyd het breakdancing ’n populêre plaaslike verskynsel geword, en teen die einde van die 1980’s is ook rap deur bruin jongmense op die Kaapse Vlakte ingespan as ’n manier om hulle sorge en aspirasies te opper (Martin 2013:294–300). In ’n tydskrifartikel oor die opkoms van Suid-Afrikaanse rap skryf Karon (1993:25) destyds in hierdie verband:

Die sade van [rap en die hip-hop-kultuur] het miskien uit Amerika se swart ghettoes [sic] na Suid-Afrika oorgewaai, maar dit het hier so stewig wortel geskiet aan die randakker van ontheemde gemeenskappe, dat dit nie net ’n eie, inheemse karakter aan ’t ontwikkel is nie, maar inderwaarheid beskou word as uitlaatklep, as verlossingsboodskap vir die lost generation. Dit is besig om die dryfkrag te word vir die herlewing van ’n nuwe swart bewussynsbeweging, vir swart trots en swart empowerment.

Ofskoon die Amerikaanse invloed van hip-hop hier sigbaar was, het die eerste jong rappers op plaaslike bodem nie slegs Amerikaanse rolmodelle en voorbeelde nageboots nie; deur in ’n vermenging van plaaslike tale te rap oor Suid-Afrikaanse omstandighede, wat in die middel-1980’s gekenmerk is deur ’n noodtoestand en opstande teen die apartheidsbeleid (Künzler 2011:28), het Suid-Afrikaanse hip-hop vroeg reeds ’n glokale karakter gehad.

Oor vroeë Kaapse hip-hop se verband met opstand teen die apartheidsbestel moet daar kortliks genoem word dat daar in die diskoers oor die ontstaan van plaaslike hip-hop verskeie menings hieroor is. Volgens Künzler (2011:27–8) het hip-hop in die Kaap ontstaan as ’n vorm van verset teen apartheid, maar Watkins (2012:57, 74) betoog dat, hoewel Suid-Afrikaanse hip-hoppers in die vroeë tot middel-1980’s belange gehad het by die politieke kwessies van die dag, politiek nie aanvanklik hulle primêre fokus was nie en dat dít ’n drogrede in die akademiese diskoers oor die eerste fases van hip-hop in Suid-Afrika is. Hy meen dat ’n verbintenis tussen plaaslike hip-hop met die politieke kwessies van die dag, en die gebruik van hip-hop as ’n spreekbuis te midde daarvan, met verloop van tyd ontwikkel het, en steun dié redenasie op grond van onderhoude wat hy met rolspelers in die Kaapse hip-hop-toneel gevoer het.

Maar soos ek elders redeneer (Klopper 2017a:54): Selfs al was die boodskap van die eerste Kaapse hip-hoppers nie aanvanklik direk verbind met die struggle teen apartheid per se nie, kan die identifikasie met hip-hop deur jong bruin en swart mense in die 1980’s in Suid-Afrika nietemin gekoppel word aan die marginaliserende gevolge van apartheidswetgewing, asook aan ’n lang geskiedenis van sosiale en politieke ongeregtigheid wat selfs nog verder teruggevoer kan word na kolonialisme en slawerny. Met ander woorde, om as bruin of swart persoon te rap in die 1980’s en vroeë 1990’s in Suid-Afrika het nie net gegaan oor ’n verbale uitdrukking teen die apartheidspolitiek nie, maar was ook ’n opstand teen die effek van ’n eeue lange geskiedenis van onderdrukking en ’n poging tot die daarstelling van persoonlike agentskap te midde daarvan. En dít geld tot vandag toe in plaaslike bewuste hip-hop, soos deur “Larney, jou poes” vergestalt, en verder in hierdie artikel duidelik sal blyk. Hip-hop is immers ’n kulturele gebruik wat onderhandel met die ervarings van marginalisering, beperkte geleenthede en onderdrukking (Rose 1994:21). Die daaglikse werklikhede van onvoldoende toegang tot finansiële en ander bronne staan dus sentraal in die begrip van die belange van jong mense wat gedurende die 1980’s en 1990’s aangesluit het by die hip-hop-beweging in die Wes-Kaap (Klopper 2000:185). Jong bruin mense in die Kaap gedurende die 1980’s kon identifiseer met swart Amerikaanse hip-hop, vanweë die gedeelde ervaring van sosioëkonomiese en politieke marginalisering en onderdrukking (Künzler 2011:28) wat daarin uiting kry.

In die vroeë 1990’s was die Kaapse groep Prophets of Da City (POC)14 baanbrekers op die plaaslike hip-hop-toneel, en ook die eerste wat ’n hip-hop-album in Suid-Afrika uitgereik het (Künzler 2011:28). Benewens Engels, Xhosa en Zoeloe, was hulle die eerste om in (Kaapse) Afrikaans te rap, en hulle vermenging van plaaslike tale het hulle reikwydte verbreed (Haupt 1996:5). Hulle lirieke is gekenmerk deur ’n positiewe boodskap wat selftrots aanspoor en geweld en dwelms afkeur – en dieselfde geld vir prominente bewuste plaaslike bruin rap-groepe wat in hulle voetspore gevolg het, soos Black Noise. Studies soos dié van Haupt (1996 en 2004) oor POC en ander hip-hop-groepe afkomstig uit die Kaapse Vlakte ondersteun die beskouing dat vroeë plaaslike kunstenaars hip-hop as platform vir die artikulasie van identiteit gebruik het in ’n omgewing wat op sosiale en politieke vlak ontoeganklik en ontegemoetkomend was; met ander woorde waar hierdie kunstenaars andersins ’n gebrek aan agentskap gehad het. Haupt (2004:76) skryf byvoorbeeld dat musiek soos dié van POC en Brasse Vannie Kaap (BVK) onder meer ’n ruimte in die openbare sfeer teruggeëis het – ’n sfeer waartoe jong swart mense onder die apartheidsbestel nie toegang gehad het nie (vgl. ook Künzler 2011:28, 41). In hierdie sin het hip-hop vroeg reeds in Suid-Afrika die geleentheid gebied vir die daarstelling van agentskap in ’n ontegemoetkomende, ontmagtigende ruimte.

Sedertdien het die plaaslike hip-hop-kultuur aansienlik verbrei, en die ryke variasie van plaaslike hip-hop, met rap in verskillende inheemse tale, deur verskillende rassegroepe oor verskillende kwessies, noop die verbreding van die diskoers daaroor – ook tot kwessies wat in Afrikaanse rap buite die konteks van die Kaapse Vlakte aangespreek word, soos in die geval van “Larney, jou poes”. Ek gaan met Moses (2019:150) akkoord dat hierdie lied in die voetspore van die genoemde vroeë bewuste Kaapstadse rappers soos POC, Black Noise en BVK volg. Maar ek reken ook dit dui op ’n tematiese variasie in hip-hop wat wyer as die Kaapse Vlakte strek.

2.4 Die plaaslike hip-hop-diskoers

Omdat die eerste permutasies van hip-hop in Suid-Afrika in die Kaap sigbaar was, het vroeë akademiese studies oor plaaslike hip-hop byna uitsluitlik op Kaapse hip-hop gefokus, en meer spesifiek op hip-hop uit die Kaapse Vlakte. Künzler (2011:27 e.v.) dui daarop dat die grootste deel van die akademiese diskoers oor hip-hop in Suid-Afrika (ten tye van sy betoog) steeds fokus op die beginfase van hip-hop aan die Kaap en veral op groepe soos POC, met hip-hop wat beskou word as teenreaksie op hegemoniese magte en beïnvloed is deur die swartbewussynsbeweging. Hy betoog onder meer: “the existing literature on rap in South Africa appears rather outdated and unrepresentative of the current situation, and more recent developments of the genre” (Künzler 2011:29). Ook Watkins (2012:59), wat vroeër self ’n studie oor hip-hop in die Kaap onderneem het (Watkins 2000), meen dat die studie van Suid-Afrikaanse hip-hop hoofsaaklik handel oor hip-hop in die Kaap. Beide Künzler (2011) en Watkins (2012) gaan dan voort om hierdie saak aan te spreek deur ’n breër blik oor die stand van Suid-Afrikaanse hip-hop in die 21ste eeu te bied. Die gevolg is ’n uitbreiding in die akademiese diskoers oor plaaslike hip-hop, asook ’n demonstrasie van die ryke variasies daarvan, hoewel hulle studies nie melding maak van byvoorbeeld wit Afrikaanse rappers nie.15 Intussen het nog belangrike bydraes tot dié diskoers verskyn, soos veral Moses (2019) se uitgebreide Harvard-studie waar hy die uitdrukkings van bruin identiteit in Kaapse rap ondersoek. Maar hoewel laasgenoemde studie ’n noemenswaardige bydrae tot die plaaslike hip-hop-diskoers lewer, illustreer die hooffokus van Moses (2019) eintlik net Künzler (2011) en Watkins (2012) se redenasies, naamlik dat hip-hop-studies in Suid-Afrika hoofsaaklik beperk bly tot Kaapstadse hip-hop.16 Soos ek ook in Klopper (2017a:63–70) breedvoerig betoog, bly dit die tendens terwyl daar Kaapse permutasies van hip-hop buite die Kaapstadmetropool is wat tematies varieer van die temas behorende tot die stad (en die Kaapse Vlakte) – veral as dit kom by Afrikaanse rap.

Met die aanvang van die derde dekade van hierdie eeu is dit duidelik dat daar oor die breër Kaapse gebied – wat veral die platteland van die Wes-, Oos- en Noord-Kaap insluit – ’n oplewing in Afrikaanse rap is, of rap waarvan daar Afrikaanse elemente is. Net soos die temas van rap op die Kaapse Vlakte sowel variasie as ooreenstemming van temas toon, is die temas wat aangeraak word op die Kaapse platteland ryk aan variasie, terwyl dit dikwels ’n diskursiewe verband met sowel die plaaslike as internasionale hip-hop-toneel hou.

Dookoom se “Larney, jou poes” dien as voorbeeld van hoe kommentaar in Afrikaanse rap oor die ervaring van marginalisering en onderdrukking nie slegs gelewer word op die Kaapse Vlakte of oor die omstandighede daar nie, selfs al is die emcee van Dookoom, Isaac Mutant, op die Kaapse Vlakte gevestig. Tematies word kommentaar oor onderdrukking en rassepolitiek in “Larney, jou poes” verbrei om die plattelandse ervaring in te sluit. Natuurlik gebruik nie alle plattelandse rappers hip-hop om in hulle lirieke kommentaar op rassepolitiek en onderdrukking te lewer nie en ook op die platteland is temas in rap gevarieerd. Sommige rappers gebruik byvoorbeeld rap om ’n trots in hulle gemeenskap uit te spreek en sodoende agentskap te verkry, soos byvoorbeeld die geval is by die rapper V.I.T.O. uit Okiep in die Noord-Kaap (kyk Klopper 2017a:66–8 en Klopper 2017b).

Vervolgens word Isaac Mutant en Dookoom, en spesifiek hulle mees invloedryke rap-lied, “Larney, jou poes”, van nader beskou, nie slegs om meer oor die lied en funksionering van hip-hop te wete te kom nie, maar om uiteindelik voort te bou op die diskoers oor plaaslike hip-hop, en veral dan oor Afrikaanse rap.

 

3. Isaac Mutant, Dookoom en “Larney, jou poes”

3.1 Inleiding: Wie is Isaac Mutant en Dookoom?

Die gewese Kaapstadse hip-hop-groep Dookoom was tussen 2013 en 2018 aktief, waartydens hulle enkele kortspelers en enkelsnitte uitgereik het. Die lede van Dookoom word deur Koen (2014:8) soos volg opgesom:

The group [...] is a rainbow nation-wet dream. There is Spooky with her shaved blonde head on visuals, British-born Human Waste (aka Dplanet) on beats and backing vocals, Cape Flats muso Roach on the decks, lyricist Isaac Mutant and then Lilith, an amorphous id who wears a stocking over her face [...]

Die emcee van Dookoom, Isaac Mutant (ook bekend as Jimmy Kaatte), is al vir meer as twee dekades op die Kaapse hip-hop-toneel bedrywig. Mutant woon op die Kaapse Vlakte, maar hy is in 1975 op Vredendal gebore, ’n dorp omring deur plase – veral wingerdplase – hoofsaaklik bearbei deur arm bruin arbeiders en besit deur wit boere. In ’n onderhoud met News24 vertel hy dat hy nie net die hoogs omstrede “Larney, jou poes” geskryf het na aanleiding van sy agtergrond op Vredendal nie, maar ook op grond van wat sy kennisse op die platteland hom vertel het van hulle onregverdige behandeling en armoedige omstandighede: “But I’m pissed in general of how people treat other people” (News24 2014). In ander onderhoude verbind Mutant spesifiek die lied se inhoud met die vele indertydse plaasopstande deur wynplaasarbeiders wat in 2012 buite De Doorns in die Boland ontvlam het (vgl. Koen 2014:8; Marais 2014:11), waartydens dié werkers betoog het teen die lae daaglikse werkersloon wat in daardie stadium R69 per dag was (vgl. Anoniem 2019). Blignaut en Willemse (2014:3) verbind die lied verder met die oorblyfsels van kolonialisme: “The song places the band’s politics as a reaction to the Cape’s history of slavery, colonialism and the ‘dop system’ – when farm workers were paid in alcohol.” Die lied lewer dus spesifiek kommentaar op die uitbuiting van arm bruin plattelandse plaaswerkers, maar ook op onderdrukking oor die algemeen, soos die liedteks-ontleding in die hieropvolgende afdeling sal aantoon.

Die groepnaam Dookoom is afgelei van die hoofsaaklik Kaaps-Afrikaanse woord doekom/doekoem afkomstig van dukun wat in beide Maleis en Indonesies gebruik word om na ’n sjamaan of toorder te verwys. In Indonesies word die woord ook gebruik in die betekenis van “om getoor te wees”, en in beide die Maleis en Indonesies het hierdie woord ’n negatiewe konnotasie. Die verafrikaanste weergawe en gebruik van hierdie woord het verskeie variasies en permutasies wat waarskynlik wissel tussen streke. Volgens die Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT 1974) word doekoem of doekom gebruik in plaas van doekoen “veral in die afgeleide betekenis meerdere of moesoek: Jou doekoem kry (teëkom), jou meerdere, jou moses teëkom” (WAT 1974, o.w. “doekoem”). Daarteenoor word doekoen volgens die WAT gebruik om te verwys na ’n “[i]nheemse geneeskundige, man of vrou, soms ’n priester, wat, spesiaal op Java, empiriese genees- en verloskunde wat dan meestal op bygeloof berus, uitoefen en weens beweerde omgang m/d geeste drome uitlê en die toekoms voorspel; medisynemeester, vroedvrou, towenaar [...]” (WAT 1974, o.w. “doekoen”). Soortgelyk as die geval in Indonesies, word die woord op die Kaapse Vlakte – met die verafrikaanste uitspraak doekoem/doekom – oorwegend as werkwoord (in die betekenis “toor”) ingespan, byvoorbeeld “Daai man is gedoekom.”17

In die lig van hierdie konnotasies met die woord doekoem (wat die groep waarskynlik verengels het met die spelling Dookoom) verklaar Mutant in ’n video-onderhoud (I.O.T. Records 2014) in antwoord op die vraag “Why Dookoom?”:

People are always scared of what they don’t know. And that’s how we grew up, me and my friends, and people in my area. A ‘dookoom’ was one of those things that we were scared of. So we had to go with that one.

Mutant beskou met ander woorde die woord as verwysing na ’n toorder, een met die mag om vrees in te boesem; ’n magtige gestalte met agentskap. In dieselfde onderhoud (I.O.T. Records 2014) sê hy oor homself en sy kuns:

South Africa knows this fucking black militant dude and everyone’s scared of that [...] It’s got nothing to do with colour, it’s got to do with pushing boundaries and shit, and making people uncomfortable. And the moment you’re uncomfortable, you evolve mos, man.

In hierdie geval hou die groepnaam verband met grieselrigheid, aanstootlikheid en die skoktaktiek. Een joernalis beskryf Dookoom inderdaad as die grillerigste hip-hop-groep ooit, oftewel “the creepiest band ever” (Feser 2014). Dookoom en veral Mutant se oogmerk is dus om ongemak te wek ter wille van sosiopolitieke vooruitgang. Ongemak is ’n gegewe in protesmusiek. As dit nie ongemak, debat en omstredenheid wek nie, is dit nie protesmusiek nie. Om te skok, aanstoot te gee en omstredenheid te wek, was die groep se oënskynlike doel. In weerwil van die groep se naam, was die doel ook om – soos met die mag van ’n doekoen – verandering te bewerkstellig, ofskoon hulle bestaan kortstondig was. Op hulle Facebook-blad kondig hulle in 2019 aan dat hulle ontbind met die afskeidswoorde: “Dookoom fucked shit up and left”.

Maar wat is die funksie van hierdie aanstootlikheid? Die antwoord lê gedeeltelik in hierdie geval by hoe die sogenaamde badman figureer in hip-hop ten einde simboliese agentskap te bewerkstellig te midde van ’n geskiedenis van sosiopolitieke onreg. Vervolgens word die lirieke en musiekvideo van Dookoom se “Larney, jou poes” bespreek, met inagneming van hierdie simboliek.

3.2 ’n Liriek-ontleding van “Larney, jou poes”

In Klopper (2009, 2017a) word betoog dat lirieke nie op dieselfde wyse as formele poësie ontleed kan word nie, omdat dit geskryf word om gesing/perform te word, en omdat dit onlosmaaklik verbind is met stem, optrede en musiek wat elk bykomende emosionele en simboliese ladings tot die lirieke bied. Hierdie aspekte, asook visuele voorstellings van ’n lied in die vorm van byvoorbeeld musiekvideo’s, moet dus in ag geneem word wanneer die betekenis van lirieke ondersoek word, aangesien betekenisverdigting deur hierdie meegaande elemente plaasvind. Wanneer dit spesifiek gaan oor die ondersoek van raplirieke, wys Bradley (2009:7–14, 31–4) op die onlosmaaklike simbiose van stem en musiek in rap, en noem dit die “dual rhythmic relationship”, oftewel die tweeledige ritmiese verhouding: ’n wederkerige werking tussen die ritme en vloei van woorde, en die beat of tempo wat daarmee gepaard gaan. Ritme en ritmiese musiek is ’n kernelement van rap en dra by tot die sensoriese effek van ’n rap-lied. Wanneer ’n ontleding van die lirieke van ’n rap-lied soos “Larney, jou poes” dus aangepak word, moet hierdie saamwerking van bykomende elemente wat bydra tot die uiteindelike betekenisoordrag ook in ag geneem word. Vervolgens ondersoek ek die woorde van “Larney, jou poes”, met inagneming daarvan dat die woorde nie geskei kan word van hierdie bykomende, aanvullende elemente nie. In hierdie afdeling sal ek ritme en musiek in ag neem, en in die volgende afdeling kom die visuele elemente van die musiekvideo spesifiek aan die bod.

“Larney, jou poes” open met ’n beswymende, onthutsende wysie op die maat van ’n swaar tromslag wat onmiddellik bydra tot die ontwrigtende sensoriese ervaring van die lied. Dan val die rapper Isaac Mutant weg met ’n verdraaiing van die bekende Engelse Christelike kinderloflied “Father Abraham” waarvan die oorspronklike refrein lui:

Father Abraham had many sons
Many sons had Father Abraham
I am one of them and so are you
So let’s all praise the Lord

Op dieselfde wysie as bostaande refrein, rap Mutant:

Farmer Abrahams had many farms
Many farms had Farmer Abrahams
I work one of them and so do you
So let’s go burn them down

Hierdie simboliese omkering is ’n opsetlike retoriese tegniek om reeds met die intrapslag van die rap-lied Dookoom se beswaar teen die status quo duidelik te sinjaleer. Die verwringing van ’n kinderloflied (wat verbind kan word met heilsaamheid, heiligheid en onskuld) tot subversiewe interteks het ten doel om te dui op die ónheiligheid, ónheilsaamheid en die skuldlas van “Farmer Abrahams” – wat hier as versamelnaam ingespan word om nie slegs te verwys na wit boere nie, maar wit onderdrukkers oor die algemeen, wat reken hulle is uitverkore en verhewe à la die Bybelse figuur van Abraham. In sterk kontras met die lof vir ’n oppergesag in “Father Abraham”, ondergraaf Mutant die gesag van die boer in sy vers.

Religieuse intertekstualiteit word herhalend in die lied ingespan, onder andere waar daar met die eerste rap-vers na Afrikaans gewissel word met die woorde:

ek slaan my oë op na die hemel, dis skemer
die varke vreet my op, want ek meng met semels
ek moet altyd kak stoot
plaaswerkers weet hoe gaan die lewe
want die baas van die plaas laat jou hele lewe sneuwel

Bostaande teks kan as tematiese opsomming van die lied beskou word. Die eerste twee reëls hou op intertekstuele wyse verband met die Bybelvers, Psalm 121:1–2, wat lui: “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.” In skerp teenstelling met dié Bybelvers, wat die sekerheid van verlossing te midde van nood verwoord, word hopeloosheid en onheil vergestalt in Mutant se woorde – nogeens funksioneer simboliese omkering hier as retoriese strategie.

Mutant plaas homself in die skoene van die plaaswerkers spesifiek, maar alle veronregtes in die algemeen, en ten einde dit te doen, neem hy die gestalte van die arbeider aan, hy praat namens die plaasarbeider, onder meer deur te sê: “ek is keelvol” en “ek voel gebreklik”. Nie slegs vergestalt hierdie woorde hoe die geskiedenis van onderdrukking en die gevolglike sosioëkonomiese wanbalans tot woede en ’n gevoel van magteloosheid lei nie, maar die woord keelvol is boonop dubbelsinnig: Dit wys op ’n gevoel van satheid, maar dien ook as simboliese verwysing na die omstrede sogenaamde dopstelsel van ouds waar boere arbeiders met wyn betaal het. Hierdie gegewe word onderstreep deur visuele voorstelling in die lied se musiekvideo waar die karakters van plaaswerkers groot strale wyn uit papsakke drink (in die volgende afdeling kom visuele simboliese gegewens verder aan die bod; vgl. ook Moses 2019:147).

Die wanbalans van die heersende toestand word dus geskets en ’n behoefte aan die herstel van hierdie wanbalans word uitgespreek, met die woorde: “voetsek! brand jou plaas plat, nou kan jy soos ek werk”. Vuur en verbranding dien hier as simbool van vernietiging, maar een wat noodsaaklik is ten einde verandering mee te bring. Soos betoog in Klopper (2009:129–30), is vuur ’n kenmerkende simbool van die tema van verandering of hernuwing in lirieke. Mutant predik hier dus ’n behoefte aan verandering van die status quo.

Daarna kom ’n wending in die musiek wat die luisteraar boei met ’n opbouende, onheilspellende ritme, waarvan die effek versterk word deur die herhaling van die woorde: “eendag was daar gewees, die next dag was daar fokkol [niks]”. Hierdeur word die Genesis-skeppingsverhaal uit die Bybel op sy kop gekeer en kommentaar gelewer op die onmoontlikheid van ’n voortbestaan in die huidige situasie, onderstreep met die woorde: “ek is so diep in die kak, ek gaan toilet toe met ’n snorkel”.

In teenstelling met die Genesis-interteks wat lui dat die aarde geskep is vanuit die duistere onbewoonbaarheid van die niet, word dié gegewens omgekeer om te sê dat die optrede van die (wit) mens die teenoorgestelde uitwerking as die skeppingsverhaal het, met ander woorde verwoesting: “eendag was daar gewees, die next dag was daar fokkol”. Die aangesprokene in die lied word dus beskuldig van die verwoesting van balans deur onregmatige optrede jeens andere. Die simboliese omkering van hierdie woorde kry egter selfs meer betekenis indien die voorafgaande reël “voetsek! brand jou plaas plat, nou kan jy soos ek werk” daarmee saam in ag geneem word – nou kan die woorde “eendag was daar gewees, die next dag was daar fokkol” beskou word as ’n dreigement van vernietiging van die plaas (oftewel die breër status quo) ter wille van die herstel van balans.

Later bereik ook die woede brandpunt in die lied met die uitdagende, herhalende, woorde: “koes, koes, daar hol hulle / daai’s my formula”. Dit is op hierdie punt in die musiekvideo waar ’n groep plaasarbeider-karakters die materiaal vir brandstigting bymekaar begin maak, soos in die volgende afdeling in meer diepte bespreek word. Dan volg die kern van die lied, met die woorde waaraan die titel ontleen is, op die maat van ’n pulserende, vibrerende elektroniese sintetiseerder-klank18 wat as ’t ware die woedende erns van die woorde versterk: “jou poes, my larney / jy kan my nie vertel nie”. Nou word die wit baas in alle erns uitgedaag en aangespreek, en bied die lied ’n alternatiewe (mondelinge) geskiedskrywing wat afwyk van die formele geskiedskrywing voorgehou deur die wit establishment onder die apartheidsregering, en waarin Jan van Riebeeck as grondvester-held of heroïese kolonis voorgehou is:

bra, remember you come here in 1652
you a skollie too
you were fokking sentenced with a convict crew
you robbed and skrewed the natives
now who’s the savage?
in 1657 the National Party was established
you garbages ravaged the balance from the get-go
[...]
my family spreaded over the plantations
and by the way,
who the fuck is you to call my frustrated ass a racist?19

Wat hierdie gedeelte van die lied veral treffend maak, is die verwysing na 1657 as die jaar waarin die Nasionale Party kwansuis reeds gevestig is (“in 1657 the National Party was established”), terwyl hierdie party eers formeel in 1914 gestig is en ná politieke oorwinning in 1948 ’n aktiewe rol gespeel het in die ingrawing van apartheid deur middel van wetgewing. Die jaar 1657 is egter noemenswaardig omdat dit die jaar is waarin Jan van Riebeeck aan die sogenaamde Vryburgers regte toegestaan het om koloniale grond te gebruik vir landbou. Twee jaar later, in 1659, is die eerste bottel wyn op plaaslike bodem geproduseer. Hierdie datumverwysing skakel dus direk met die tema van ’n langdurige geskiedenis van onreg op plattelandse plase en veral dan wynplase, wat in die lied aangespreek word, en wat verteenwoordigend is van algehele geskiedkundige onreg, en veral dan die geskiedkundige onreg op plaaslike bodem.

Howson (2019:3) skryf oor hoe die Wes-Kaapse wynplaaslandskap verteenwoordigend is van historiese sosiale, ekonomiese en politieke magsverhoudinge in Suid-Afrika:

As one of the first commercial and export industries in South Africa from the mid seventeenth century, and a major driver of the slave trade at the Cape as well as the seizure of Khoisan land, wine production has provided a backdrop to the extended negotiation and re-negotiation of racialised economic roles in South Africa.

Terwyl die demokratisering van Suid-Afrika in 1994 sekere veranderinge in hierdie bedryf meegebring het (en daar weens globale handel ook eksterne druk op die plaaslike bedryf geplaas word om te evolueer), skryf Howson (2019:4) verder, is daar in baie opsigte vandag nog ’n voortsetting van dié bedryf se problematiese geskiedenis met ’n “deep-seated racialised hierarchy which has kept white landowners prosperous and black labourers dependant and impoverished”, soos uitgedruk word in “Larney, jou poes” se rap-lirieke.

’n Kenmerk van rap (en veral in bewuste rap), in teenstelling met formele Westerse poësie, is dat die rapper gewoonlik as ek-verteller optree ten einde outentisiteit te bewerkstellig. In rap is die outeur en voordraer gewoonlik een en dieselfde persoon (vgl. Rose 1994:87; Bradley 2009:162), waar die digter en spreker in Westerse poësie gewoonlik teoreties as afsonderlik beskou word (ofskoon outobiografiese poësie wel ’n immer groeiende tendens is). Die spreker in hierdie lied is egter ’n karakter wat ’n groep mense verteenwoordig en as ’t ware as spreekbuis vir hulle optree. In “Larney, jou poes” neem Mutant die gestalte van ’n Bolandse plaasarbeider aan,20 eerder as om noodwendig as spreker uit spesifieke persoonlike ervaring op te tree; soos hy inderdaad uitwys wanneer hy praat oor hoe die benarde toestande van sy familie en vriende in die Boland as inspirasie vir die lied gedien het (News24 2014). Tog beken hy – soos reeds genoem – in laasgenoemde onderhoud dat die woede jeens onreg wat in die lied uitgespreek word oor onreg oor die algemeen gaan, en jeens plaasboere spesifiek. Hierdie tematiese invalshoeke word versterk deur die visuele voorstellings in die lied se musiekvideo.

3.3 Isaac Mutant as badman-figuur in “Larney, jou poes” se musiekvideo

In die hedendaagse konteks van internetkonnektiwiteit en die verspreiding van musiek op digitale platforms (versus oudmodiese musiekverspreiding via band, plaat of CD), speel die veelvlakkige oordrag van musiekskeppings ’n ál groter rol, omdat die toegang tot bykomende elemente van hierdie skeppings – soos musiekvideo’s – so geredelik is te danke aan die internet. Reeds meer as ’n dekade gelede wys Moser (2007:283) daarop dat populêre liedjies ’n intermediapraktyk is “which enacts and thus embodies the interplay and integration of oral, literate and audiovisual modes of linguistic communication”. Hiervolgens word daar aanvaar dat populêre musiek nie noodwendig deur een enkele modus van kommunikasie – soos lirieke – oorgedra word nie. Eerder kan bykomende inligting tot ’n lied oorgedra word deur byvoorbeeld visuele enkodering in (onder meer) optredes of deur musiekvideo’s (vgl. ook Klopper 2017a:20–1). In die geval van “Larney, jou poes” speel die meegaande musiekvideo, geskiet deur die regisseur Dane Dodds, ’n onontbeerlike rol in die oordrag van die lied se boodskap, en is dit juis dié visuele voorstelling en die digitale verspreiding daarvan, wat aan die lied so ’n groot reikwydte en tonne media-aandag geskenk het.

Die verskyning van “Larney, jou poes” se musiekvideo op YouTube in Oktober 2014, is begroet met gemengde ontvangs in die formele media en op sosiale media, met die musiekvideo wat deur baie kommentators as opruiend beskou is. Die video is geskiet in swart en wit, wat hier nie bloot ’n stilistiese keuse is nie, maar ook ’n simboliese doel dien deur die swart-en-wit-rassepolitiek wat hier ter sprake kom op visuele vlak te beklemtoon.

Die video open met ’n panoramiese videoskoot van ’n welvarende plaas met ’n groot opstal aan die voet van heuwels. Dan sien ons ’n skedonk-bakkie en ’n trekker, tekenend van ’n plaas waar daar hard gewerk word.21 Hoenders pik-pik, en skape drom saam op sanderige terrein – kenmerkende beelde van ’n Suid-Afrikaanse plaas. Dan verskyn Isaac Mutant teen die agtergrond van ’n wit skuur-muur en begin rap. Hy toon ’n uitdagende houding, wys twee middelvingers in die lug wanneer hy die inleidende refrein afsluit met die woorde “so let’s go burn them down” – met verwysing na die wit boer se plase. In die volgende toneel tree die rappende Mutant op as trekkerbestuurder, met ’n groep plaasarbeiders op ’n wa agter die trekker. In ’n opstandige gebaar hou hulle gaffels omhoog, voor hulle van die trekkerwa af spring en droë gras en motorbande bymekaarmaak vir brandstigting.

Terwyl Mutant rap “koes, koes, daar hol hulle”, blyk die plaaswerker-karakters ook wapens op te neem. Kort daarna is dit hierdie karakters wat Mutant se woorde “jou poes, my larney” uittartend naboots. Uiteindelik stig die arbeider-karakters ’n brand met vlammende motorbande. Moses (2019:147) meen dat die gebruik van motorbande hier ’n simboliese verwysing is na halsbandmoord, die omstrede strafgebruik uit die apartheidsera. Hy redeneer dat hierdie simboliese gegewe ’n hedendaagse fokus plaas op “racially motivated practices supposedly relegated to apartheid history”. (Kyk ook my kommentaar oor die video se uitbeelding van die dopstelsel in die vorige afdeling.)

Moses (2019:148) bevind in verband met “Larney, jou poes”: “Overall, Dookoom’s video offers a definitive re-positioning of agency, with authority now located in the hands of indentured-laborers.” Hierdie beskouing strook met my lesing van Mutant as badman-figuur, omdat die badman as simboliese tegniek in rap funksioneer met die doel om, te midde van teenstand en onderdrukking, mag en agentskap daar te stel (kyk ook Nyawalo 2013).

Die blote (funksionele) benaming van die groep Dookoom dui reeds op ’n konneksie met die mitiese badman-figuur: Soos bespreek in onderafdeling 3.1 hou die woord Dookoom (afgelei van doekom/doekoem) verband met sogenaamde donker magte, omdat dit na ’n sjamaan of toorder verwys. Met Mutant se uitdagende optrede in “Larney, jou poes” se musiekvideo, word die neerslag van hierdie simboliek duidelik. In sy oorspronklike vorm is die mitiese badman ’n meta-geregtelike figuur wie se heroïese uitbeelding die geldigheid van ’n regstelsel ondergraaf wat swart Amerikaners van hulle siviele regte ontneem het; met ander woorde, as reaksie op (gedwonge) insluiting in ’n gemeenskap waar hulle terselfdertyd op sosiopolitieke en ekonomiese vlak uitgesluit is (Nyawalo 2013:473). Die badman-persona word dus ’n onderhandelingstrategie met ’n oorlewingshouding ingeskryf in die bemagtigingsmoontlikhede wat hierdie figuur bied aan diegene wat kies om dit te vergestalt (Nyawalo 2013:474). Hierdie simboliek is oor baie dekades oorgedra in swart mondelinge praktyke, tot in hip-hop – waar dit deel geword het van hierdie kultuurvorm se simboliese etos – en ook in die verbreiding daarvan na ander kontekste, tot in bewuste Suid-Afrikaanse hip-hop. In “Larney, jou poes” neem Mutant dan ook die karakter van hierdie meta-geregtelike figuur aan ter wille van die bemagtigende moontlikhede wat dit bied. Nyawalo (2013:472–3) betoog dat onderdrukking die dryfkrag is wat lei tot hierdie tipe verbalisering en vertoning van anti-establishment-uitbeeldings van agentskap vanuit marginale ruimtes, soos hier inderdaad die geval is. 

Rose (1994:12) meen: “[T]he ghetto badman posture-performance is a protective shell against real unyielding and harsh social policies and physical environments.” Die badman-toast, en die figuur van die badman in hip-hop word dus gebruik as protes, as artikulasie van sosiale omstandighede, maar ook ter behoud van die spreker se persoonlike mag en menslikheid (vgl. Nyawalo 2013:464) binne ontoereikende omstandighede. In die geval van “Larney, jou poes”, is hierdie omstandighede op Suid-Afrikaanse bodem die ongunstige toestande van bruin plaasarbeiders te midde van eeue lange sosiopolitieke onreg, en word die badman ingespan ten einde simboliese agentskap te bewerkstellig.

Nyawalo (2013:473) betoog egter ook oor die badman:

The badman typically presents himself as an inassimilable counter-cultural hero who expresses a given sociopolitical reality […] [T]he figure of the badman is sometimes used as a mirror that points at the larger society that engendered its creation.

Benewens die simboliese agentskap wat deur die figuur van die badman verkry word, het hy dus ook ten doel om die onreg in die samelewing uit te wys. Die gedaante wat Isaac Mutant in “Larney, jou poes” aanneem, en die boodskap wat hy oordra in die lied, bied met ander woorde ’n blik op die samelewing wat in die eerste plek sy badman-figuur tot gestalte gedwing het.

 

4. Gevolgtrekking

Terwyl hip-hop nie ’n kitsoplossing vir sosioëkonomiese en politieke ongelykheid en ander sosiale euwels is, was of ooit sal wees nie (vgl. Chang 2005:82), het die ontstaan daarvan in die 1970’s onder die swart Amerikaanse jeug ’n platform daargestel vir die artikulasie van identiteit en werklikhede in ’n omgewing wat andersins vir hulle ontegemoetkomend was, en waar legitieme roetes tot materiële en sosiale deelname vir hierdie jongmense al hoe meer ontoeganklik geword het (Rose 1994:59–60). Dieselfde geld vir ander gemarginaliseerde mense die wêreld oor, ook op Suid-Afrikaanse bodem, waar hip-hop reeds in die 1980’s aanklank onder die Kaapse jeug gevind het. Hier was van die vroegste rappers sosiaal bewus, en met ’n lied soos “Larney, jou poes” volg Dookoom – dekades later – in die voetspore van sogenaamde bewuste Suid-Afrikaanse rappers (vgl. ook Moses 2019:147).

Maar soos ek argumenteer in hierdie artikel, strek Dookoom se verbintenis met hip-hop verder terug as die eerste permutasies van hierdie kultuurvorm in Suid-Afrika. Hip-hop dra daarmee saam ’n globale simboliese etos wat op plaaslike vlak ingespan word (vgl. Neate 2004:4, 96) om plaaslike belange te artikuleer. Behorende tot die simboliese kernelemente van hip-hop, is onder meer die sogenaamde badman-figuur wat spruit uit hip-hop se voorgeskiedenis en wel vanuit die Amerikaanse slawetydperk waar dit die eerste keer in die swart mondelinge praktyk van die toast ingespan is, wat later ’n voedingsbron vir rap sou word. Die figuur van die badman word in die swart mondelinge kultuur ingespan as protes en ter wille van die skepping van agentskap binne ontoereikende sosiopolitieke omstandighede en onreg (vgl. Nyawalo 2013). Dit is duidelik dat die emcee van Dookoom, Isaac Mutant, die figuur van die badman aanneem in sy anti-establishment-performance van “Larney, jou poes” waarin die onreg jeens Bolandse plaasarbeiders – en onreg oor die algemeen – aan die kaak gestel word. Op hierdie wyse funksioneer die lied op die kruispunt tussen die universele en die spesifieke, en toon dit ook aan hoe hip-hop glokaal van aard is.

“Larney, jou poes” demonstreer verder hoe hip-hop funksioneer as ruimte waarbinne gemarginaliseerde sosiopolitieke werklikhede belig en vasgevang kan word in ’n samelewing waar die optekening van hierdie werklikhede op formele wyses – soos deur fisiese geskiedskrywing – weens eeue van onderdrukking nie moontlik was nie. In “Larney, jou poes” vind daar voorts ’n soort herskrywing plaas, en bied die lied ’n alternatiewe (mondelinge) geskiedskrywing wat afwyk van die formele geskiedskrywing voorgehou deur die wit establishment onder die apartheidsregering. In hierdie sin funksioneer die lied ook om agentskap terug te eis van die koloniale onderdrukker en kan die lied beskou word as ’n postkoloniale terugskrywing.

Maar bowenal is Dookoom se “Larney, jou poes” ’n onthutsende rap-lied wat eeue lange onreg in Suid-Afrika aan die groot klok hang en dit luid laat bengel.

 

Bibliografie

Alim, H., A. Samy, I. Pennycook en A. Pennycook. 2009. Global linguistic flows: Hip hop cultures, youth identities and the politics of language. New York: Routledge.

Androutsopoulos, J. en A. Scholz. 2003. Spaghetti funk: Appropriations of hip-hop culture and rap music in Europe. Popular Music and Society, 26(4):463–79.

Anoniem. 2019. Western Cape farm workers strike. South African History Online. 27 Augustus. https://www.sahistory.org.za/article/western-cape-farm-workers-strike-2012-2013 (4 Mei 2021 geraadpleeg).

Badsha, F. 2003. Old skool rules/new skool breaks: Negotiating identities in the Cape Town hip-hop scene. In Wasserman en Jacobs (reds.). 2003:131–43.

Brown, C. s.j. The godfather of gangsta. Davey D’s Hip Hop Corner. http://www.daveyd.com/historystagolee.html (11 November 2020 geraadpleeg).

Blignaut, C. en G. Koen. 2014. Brand die plaas en f** die baas. Rapport, 12 Oktober, bl. 3.

Blignaut, C. en R. Willemse. 2014. Dookoom pulls no punches. City Press, 12 Oktober, bl. 3.

Bradley, A. 2009. Book of rhymes: The poetics of hip hop. New York: Basic Civitas.

Brewster, B. en F. Broughton. 2006. Last night a DJ saved my life: The history of the disc jockey. Londen: Headline.

Brown, A. 2014. Dookoom – Larney jou p**s. SA Music Scene, 13 Oktober. https://samusicscene.co.za/wp/dookoom-larney-jou-ps (20 Februarie 2020 geraadpleeg).

Buys, J. 2014. Dookoom & the storm behind the Rainbow: How far has South Africa progressed as a democracy? OkayAfrica, 28 Oktober. https://www.okayafrica.com/dookoom-larney-jou-poes-video-storm-how-far-has-south-africa-progressed-as-a-democracy (20 Februarie 2020 geraadpleeg).

Chalfant, H., E. Martínez en S. Zeitlin. 2006. From mambo to hip-hop: A South Bronx tale [Dokumentêr]. Burbank: Latino Public Broadcasting (LPB).

Chang, J. 2006. Can’t stop, won’t stop: A history of the hip-hop generation. New York: Picador.

Charry, E. (red.). 2012. Hip hop Africa: New African music in a globalizing world. Bloomington: Indiana University Press.

Featherstone, M., S. Lash en R. Robertson (reds.). 1997. Global modernities. Londen: Sage.

Feser, S. 2014. The creepiest band ever. The Carillon, 2 November. https://www.carillonregina.com/the-creepiest-band-ever (20 Februarie 2020 geraadpleeg).

Gosa, T. 2015. The fifth element of hip hop: Knowledge. In Williams (red.) 2015:56–70.

Gqola, Z. 2014. Dookoom: screaming about injustice. Groundup, 15 Oktober. https://www.groundup.org.za/article/dookoom-screaming-about-injustice_2352 (20 Februarie 2020 geraadpleeg).

Haupt, A. 1996. Rap and the articulation of resistance: An exploration of subversive cultural production during the early 90s, with particular reference to Prophets of Da City. MA-verhandeling, Universiteit van Wes-Kaapland.

—. 2004. Counterpublics, noise and ten years of democracy. New Coin Poetry, 40(2):76–90.

Howson, K. 2019. Bottling the colonial unconscious: Ethical value networks and the commodification of fairness in the South African wine industry. PhD-proefskrif, Victoria Universiteit van Wellington.

I.O.T. Records. 2014. Dookoom − “Larney, jou poes” (musiekvideo). YouTube. 15 Oktober. https://www.youtube.com/watch?v=kmgpDostEqk (1 Februarie 2020 geraadpleeg).

—. 2018. Why Dookoom? YouTube. 14 Maart. https://www.youtube.com/watch?v=HjPhQ_-aatg (20 Februarie 2020 geraadpleeg).

Karon, T. 1993. Woede in woorde. Die Suid-Afrikaan, Desember/Januarie, ble. 25–7.

Klopper, A. 2009. Die opkoms van Afrikaanse rock en die literêre status van lirieke, met spesifieke verwysing na Fokofpolisiekar. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

—. 2016. A Tribe Called Quest’s first studio album since 1998 and the potency of conscious hip hop. LitNet, 15 November. http://www.litnet.co.za/tribe-called-quests-first-studio-album-since-1998-potency-conscious-hip-hop (30 April 2017 geraadpleeg).

—. 2017a. Identiteitskonfigurasies in wit Afrikaanse rap-musiek met spesifieke verwysing na Die Antwoord, Jack Parow en Bittereinder. PhD-proefskrif, Universiteit Stellenbosch.

—. 2017b. V.I.T.O., die Nam-Afrikaanse rapper wat sy wortels omhels. LitNet, 2 November. https://www.litnet.co.za/v-i-t-o-die-nam-afrikaanse-rapper-wat-sy-wortels-omhels (12 Junie 2020 geraadpleeg).

Klopper, S. 2000. Hip-hop graffiti art. In Nuttall en Michael (reds.) 2000: 178–96.

Koen, G. 2014. Why is Dookoom so angry? City Press, 12 Oktober, bl. 8.

Künzler, D. 2011. South African rap music, counter discourses, identity, and commodification beyond the Prophets of Da City. Journal of Southern African Studies, 37(1):27–43.

Lloyd, J. 2014. Larney, jou kans. LitNet, 4 November. https://www.litnet.co.za/dookoom-larney-jou-kans (19 Februarie 2020 geraadpleeg).

Marais, D. 2014. Wees bang, wees baie bang! Volksblad, 1 November, bl. 11.

Martin, D-C. 2013. Sounding the Cape: Music, identity and politics in South Africa. Somerset-Wes: African Minds.

Mitchell, T. (red.). 2001. Global noise: Rap and hip-hop outside the USA. Middletown: Wesleyan University Press.

Moser, S. 2007. Media modes of poetic reception: Reading lyrics versus listening to songs. Poetics, 35:277–300.

Moses, W. 2019. In the mix: Expressions of coloured identity in Cape Town-based hiphop. PhD-proefskrif, Universiteit van Harvard.

Neate, P. 2004. Where you’re at: Notes from the frontline of a hip hop planet. Londen: Bloomsbury.

News24. 2014. We chat to Dookoom about their controversial video, “Larney, jou p***”. 31 Oktober. [Video-opname]. https://www.youtube.com/watch?v=PkpETBwQ3tg (26 April 2017 geraadpleeg).

Nuttall, S. en C-A. Michael (reds.). 2000. Senses of culture: South African culture studies. New York: Oxford University Press.

Nyawalo, M. 2013. From “badman” to “gangsta”: Double consciousness and authenticity, from African-American folklore to hip hop. Popular Music and Society, 36(4):460–75.

Pennycook, A. 2003. Global Englishes, Rip Slyme and performativity. Journal of Sociolinguistics, 7(4):513–33.

Pennycook, A. en T. Mitchell. 2009. Hip hop as dusty foot philosophy. In Alim e.a. 2009:25–42.

Petersen, A. 2014. Dookoom break the mould of SA music with “Larney jou poes”. Platform, 13 Oktober. http://pltfrm.co.za/dookoom-break-the-mould-for-sa-music-with-larney-jou-poes (19 Februarie 2020 geraadpleeg).

Ramsey, G.P. Jr. 2003. Race music: Black cultures from bebop to hip-hop. Kalifornië: University of California Press.

Robertson, R. 1997. Glocalization: Time-space homogeneity-heterogeneity. In Featherstone e.a. (reds.) 1997:25–44.

Rose, T. 1994. Black noise: Rap music and black culture in contemporary America. Middletown: Wesleyan University Press.

Stapleton, K.R. 1998. From the margins to mainstream: The political power of hip-hop. Media, Culture & Society, 20:219–34.

The Carrilon. 2014. The creepiest band ever. 2 November. http://www.carillonregina.com/the-creepiest-band-ever (4 Maart 2020 geraadpleeg).

Upshal, D. 1999. The hip hop years. [Dokumentêr]. Belfast: Channel 4.

Urla, J. 2001. “We are all Malcolm X”: Negu Gorriak, hip-hop, and the Basque political imaginary. In Mitchell (red.) 2001:171–93.

Van der Merwe, S.D. 2015. The dynamics of the interaction between music and society in recorded popular Afrikaans music, 1900–2015. PhD-proefskrif, Universiteit Stellenbosch.

Wald, E. 2012. The Dozens: A history of rap’s Mama. New York: Oxford University Press.

Wasserman, H. en S. Jacobs (reds.). 2003. Shifting selves: Postapartheid essays on media, culture and identity. Kaapstad: Kwela.

WAT (Woordeboek van die Afrikaanse taal). Deel 2. 1974. o.w. “doekoem”. Pretoria: Die Staatsdrukker.

—. 1974. o.w. “doekoen”. Pretoria: Die Staatsdrukker.

—. 1974. o.w. “doekom”. Pretoria: Die Staatsdrukker.

—. Deel 12. 2005. o.w. “poes”. Stellenbosch: Buro van die WAT.

Watkins, L.W. 2000. Tracking the narrative: The poetics of identity in rap music and hip-hop culture in Cape Town. MA-verhandeling, Universiteit van KwaZulu-Natal.

Watkins, L. 2012. A genre coming of age: Transformation, difference, and authenticity in the rap music and hip hop culture of South Africa. In Charry (red.) 2012:57–75.

Wepener, C.J. 2015. “Bliksem!”/Damn it! A ritual-liturgical appreciation of a deadly sin for an angry nation. Verbum et Ecclesia, 36(3), Art. #1422:1–8. http://dx.doi.org/10.4102/ve.v36i3.1422 (21 Februarie 2020 geraadpleeg).

Williams, F.D. 1995. Rap music in society. PhD-proefskrif, Universiteit van Florida.

Williams, J.A. (red.). 2015. The Cambridge companion to hip-hop. Cambridge: Cambridge University Press.

 

Eindnotas

1 Hierdie artikel is geskryf as deel van ’n projek wat befonds is deur die Andrew W. Mellon-stigting, getiteld “Rethinking South African literatures” by die Sentrum vir Veeltaligheid- en Diversiteitsnavorsing aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Ek is besonder dankbaar teenoor die Mellon-stigting vir die finansiële steun van die breër projek waarvan hierdie navorsing deel vorm. Die opinies hierin vervat is my eie en is nie noodwendig toe te skryf aan die Mellon-stigting nie.

2 In hip-hop-omgangstaal word die woord emcee dikwels gebruik om na ’n rapper te verwys, maar veral na die hoof-rapper in ’n hip-hop-groep. Die woord is afgelei van die afkorting MC (Master of Ceremonies). MC en emcee is wisselvorme, maar emcee is die voorkeurvorm in hierdie artikel.

3 Ek gebruik opsetlik die term rap in plaas van die gedwonge Afrikaanse vertaling kletsrym, omdat rap spruit uit die hip-hop-kultuur wat met sekere stylelemente en simboliese merkers saamhang. Ofskoon sommige Afrikaanse rappers na hulleself as kletsrymers verwys, en die meeste Afrikaanse woordeboeke kletsrym as vertaling vir rap aandui, ontken dié bewoording die aard van rap, en glo ek die term rap het ’n spesifieke onvertaalbare verband met hip-hop (kyk Klopper 2017a:22–3, 105 vir ’n meer uitgebreide bespreking hiervan).

4 Die woord larney is ’n Kaapse slengwoord wat gebruik word om na ’n wit, welgestelde persoon te verwys, dikwels met die betekenis van “wit baas”.

5 Die vloekwoord poes verdien verdere navorsing vanweë die semantiese veelvlakkigheid daarvan. In Afrikaans is die bekendste gebruik van hierdie woord stellig in die belediging “jou ma se poes”, en moederbeledigings soos dié het ’n fassinerende, lang geskiedenis in tale en kulture oor die wêreld heen, wat verbind kan word met die universele menslike behoefte aan agentskap in die aangesig van uitdaging(s) (kyk Klopper 2017a:294–5). Maar terwyl die woord poes op sigself in die eerste plek ’n vulgêre benaming vir vroulike geslagsorgane (veral vulva) is (WAT 2005, o.w. “poes”), het daar heelwat betekenisverruiming plaasgevind in die gebruik van die woord. Die WAT dui wel aan dat dit gebruik word as neerhalende skelwoord met die betekenis van iemand wat “besonder laakbaar optree en uiters negatief ervaar word”, maar in die geval van “Larney, jou poes” sal die manier waarop daardie “jou poes” gebruik word rofweg vertaal kan word as “fuck you”, eerder as wat dit (slegs) ’n verband behou met die woord poes as verwysing na ’n vroulike geslagsorgaan of om (bloot) te beteken “jy is ’n poes (laakbare individu)”. ’n Mens sou kon redeneer dat die “ma” in “jou ma se poes” hier weggelaat is om die belediging te verkort, en dat “jou poes” dus implisiet as moederbelediging verstaan moet word, met inagneming van die enkodering (en dekodering) van taal, maar die punt bly in ieder geval staan dat die aangesprokene in die eerste plek die een is wat hier gevloek word. Poes word op verskeie ander maniere ook gebruik, soos in gradering (as graadwoord), byvoorbeeld “poeslekker” (baie lekker), of as ’n werkwoord in byvoorbeeld “vir jou gaan ek poes” (ek gaan jou slaan), ensovoorts. Aangesien daar al in die geval van poes soveel betekenisverruiming plaasgevind het, lees ek dus nie Dookoom se gebruik hier as noodwendig misoginisties – net omdat poes na ’n vroulike geslagsdeel verwys – nie.

6 Die distriksbenaming Boland word hier gebruik soos dit in die volksmond gebesig word om na die Kaapse Wynlandgebied te verwys.

7 Kyk onderafdeling 3.1 vir ’n breedvoerige bespreking van die betekenis van hierdie woord en die groep se benaming.

8 Dit is onduidelik wat die resultaat van hierdie saak was. Ten tye van die afhandeling van hierdie artikel, het AfriForum nog nie gereageer op ’n navraag oor die uitkoms van hierdie klag nie.

9 Hier kom ter sprake die genoemde klag wat AfriForum daarteen ingedien het by die Menseregtekommissie op grond van die redenasie dat dit haatspraak is.

10 DJ Kool Herc, Grandmaster Flash en Afrika Bambaataa word deur Chang (2006:90) die drie-eenheid van hip-hop-musiek genoem. (Kyk ook Brewster en Broughton 2006:226–46.)

11 Die dozens (ook soms genoem die dirty dozens) is ’n openbare verbale uitruiling van rymende, komiese, beledigende kwinkslae tussen twee partye, en is eie aan die swart Amerikaanse mondelinge tradisie. In hierdie spel (playing the dozens) eskaleer die beledigings – gewoonlik tot vulgêre vlak – totdat een van die spelers uiteindelik die ander troef en as wenner uit die stryd tree. Kyk Wald (2012) vir ’n uitgebreide studie hieroor.

12 Alhoewel sommige hip-hop-pioniers nie hierdie opname as ’n outentieke rap-liedjie beskou nie, maar as gefabriseer deur ’n saamgeflanste rap-trio wat nooit vóór die opname opgetree het nie en selfs beskuldig is van plagiaat (vgl. Upshal 1999; Bradley 2009:16), het dit die reikwydte van hip-hop verbreed in sowel die VSA as op internasionale vlak (Bradley 2009:17).

13 Die behoefte aan die bewerkstelliging van agentskap te midde van sosiale, politieke, ekonomiese, natuurlike en emosionele uitdagings is ’n universele kenmerk van die menslike kondisie (kyk Klopper 2017a:295). Rap skep op verskeie wyses die geleentheid vir die daarstelling van agentskap, op sowel simboliese as retoriese vlak. Benewens die gebruik van simboliese merkers soos die badman, soos hier bespreek, is daar ook retoriese strategieë in rap aanwesig wat om hierdie doel funksioneer. ’n Algemene kenmerk van rap is die gebruik van die eerstepersoonsvorm en die herhaalde verwysings na die rapper self asook sy/haar vermoëns, hetsy realisties of oordrewe (Rose 1994:86, Bradley 2009:180), en dit dien as retoriese strategie om agentskap te bewerkstellig (vgl. Androutsopoulos en Scholz 2003:475 en Nyawalo 2013:470). In die geval van die rap-battle (openbare bekgevegte wat die aard van rap onderlê; kyk Wald 2012:130 en Bradley:179) word agentskap ook retories bewerkstellig deur middel van wedywering, waar die rapper eweneens hoofsaaklik op sigself en eie vermoëns (sowel as die gebrek aan vermoëns van die opponent) fokus. Wedywering is tewens diep gesetel in die aard van rap en die swart mondelinge tradisies wat dit voorafgegaan het en hou verband met die daarstelling van mag in ’n ontmagtigende ruimte, met ander woorde die skep van agentskap te midde van onderdrukking (kyk Klopper 2017a:135–7). Ander retoriese strategieë in rap sluit in selfposisionering of die verwysing na plek en herkoms ten einde agentskap daar te stel.

14 Die spelling van die groepnaam wissel tussen Prophets of the City en Prophets of Da City. Ek hou by laasgenoemde.

15 Hierdie kwessie word aangespreek in Klopper (2017a).

16 Daar moet genoem word dat Moses (2019) wel vir Dookoom by sy studie insluit, omdat Isaac Mutant op die Kaapse Vlakte gebaseer is, ofskoon ek betoog dat die spesifieke tema van Dookoom se “Larney, jou poes” op omstandighede buite die Kaapstadmetropool fokus.

17 Dankie aan dr. Kimberley Halim en Haryati Poston wat onderskeidelik insig gegee het in die gebruik van hierdie term in Indonesies en Maleis. En dankie aan prof. Frank Hendricks vir soortgelyke insigte gedeel in die verafrikaanste weergawe(s) en gebruik van die woord.

18 ’n Sintetiseerder is ’n musiekinstrument wat gebruik word om ’n verskeidenheid elektroniese klanke voort te bring.

19 In hierdie gedeelte van die lied, waar daar oorgeslaan word na Engels, vind kodevermenging plaas. Kyk Klopper (2017a:99–102) vir ’n bespreking van kodevermenging as retoriese strategie in rap.

20 In ’n sekere opsig neem Mutant in die meegaande musiekvideo die karakter van die plaaswerker aan, soos beklemtoon deur die lirieke, maar in die musiekvideo kan die feit dat hy die trekker bestuur ook gesien word as die inneem – of eerder oorneem – van die boer se plek, op simboliese vlak dus ondermynend. In sy lees van die video beskou Moses (2019:147) inderdaad Mutant se posisie op die trekkersitplek (en die dra van kakieklere en ’n breërandhoed) as teken dat hy in hierdie toneel die rol van die plaasboer aanneem.

21 Die beeld van die skedonk-bakkie is heel interessant. Aan die een kant suggereer die voertuig die boer se welvaart, maar omdat dit besig is om te roes, dui dit op agteruitgang. Dit dien dus as simbool van die ware toedrag van sake, dat die huidige situasie onhoudbaar is.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Hip-hop, onreg en agentskap: Isaac Mutant van Dookoom as Bolandse <i>badman</i>-figuur appeared first on LitNet.

Wat is (nie) ’n woordeboek (nie)? Die Woordelys van die Afrikaanse woordelys en spelreëls as gevallestudie

$
0
0

Wat is (nie) ’n woordeboek (nie)? Die Woordelys van die Afrikaanse woordelys en spelreëls as gevallestudie

Herman L. Beyer, Departement Taal- en Literatuurstudie, Universiteit van Namibië, en Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch

LitNet Akademies Jaargang 18(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Vir Geni

Opsomming

Hierdie artikel is die eerste een in ’n trilogie wat verslag doen van ’n intensiewe metaleksikografiese studie van die Woordelys van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS). In hierdie bydrae word ondersoek ingestel na die status van die Woordelys as woordeboek al dan nie, aangesien uiteenlopende uitsprake oor hierdie kwessie in sowel die AWS as die jongste literatuur oor die AWS bestaan. Sodanige ondersoek veronderstel duidelikheid oor die term woordeboek, asook leksikografie. Uit die wetenskaplike literatuur blyk egter dat minder eenstemmigheid en (gevolglik) minder duidelikheid oor hierdie terme bestaan as wat verwag sou word. Gevolglik word die vasstelling van die Woordelys se status as woordeboek al dan nie voorafgegaan deur die uitklaring van die veronderstelde begrippe, wat onderneem word binne die raamwerk van die teorie van leksikografiese kommunikasie. Nuwe definisies word vir die tersaaklike begrippe voorgestel na aanleiding van kritiese oorweging binne die paradigma van die teorie se twee sentrale beginsels, naamlik: (a) In sy wese is die leksikografie ’n oefening in menslike kommunikasie; en (b) Dié kommunikasie is indirek en word deur teks bemiddel. Met betrekking tot leksikografiese tekste word die nuwe terme leksikogram en tekseem voorgestel om van die tersaaklike veranderlikes te verreken. Die fokus skuif dan (terug) na die Woordelys en daar word op kommunikatiewe gronde bevestig dat dit (en ’n aantal ander tekste in die AWS) as woordeboek(e) beskou kan word. Dié gevolgtrekking en die verdere ontwikkeling van die teorie van leksikografiese kommunikasie wat daarmee gepaard gaan, baan die weg vir die ontwikkeling van ’n leksikografiese teksgrammatika wat in die tweede bydrae sal volg, en ’n metaleksikografiese evaluering van die Woordelys waarvan in die derde bydrae verslag gedoen sal word.

Trefwoorde: leksikale kommentaar; leksikografie; leksikografiese kommunikasie; leksikografiese teks; leksikogram; ortografiewoordeboek; teks; tekseem; tekslinguistiek; tekstualiteit; woordeboek; woordelys

 

Abstract

What is (not) a dictionary, and/or what is a dictionary not? The Woordelys of the Afrikaanse woordelys en spelreëls as a case study

The Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) (Afrikaans word list and spelling rules) is the authoritative reference work on orthography for Standard Afrikaans. The latest edition (2017) consists of two major parts and several front and back matter texts. The first major part is a section of 244 pages called the Spelreëls, which describes the standard orthography in a series of spelling rules. The second major part, covering 318 pages, is called the Woordelys, in which words (and sometimes short phrases) of the Standard variety are listed because they may pose spelling difficulty, or because they are now specifically recognised as lexical elements of the Standard variety as opposed to (previously) dialectal or foreign items. This article is the first in a trilogy that reports on an intensive metalexicographic study of the Woordelys. In this contribution the status of the Woordelys as a dictionary or not is investigated.

Diverging opinions on whether the Woordelys is a dictionary are reflected in the AWS, and also in the most recent scientific literature about the AWS. Until the tenth edition (2009) front matter texts to the AWS and the Woordelys emphasised that the Woordelys should not be regarded as a dictionary. However, in the orientation to the Woordelys in the latest, eleventh edition of 2017, it is asserted that the Woordelys is not a traditional dictionary, terminology list or grammar, which would imply that the Woordelys is in fact some type of dictionary. In recent literature, opinions also vary, ranging from regarding the entire AWS (ostensibly including the “Spelreëls”) as a type of dictionary, to regarding the Woordelys as a special or orthographic dictionary with limited lexicographical information, through to regarding the whole AWS as neither a dictionary nor a grammar or textbook. To resolve this question, the metalexicographic literature is consulted for clarity on terms and concepts like dictionary and lexicography. However, less agreement on the denotations of these terms exists among researchers than one would expect. In addition, some scholars have recently warned that lexicography as a discipline is under threat in the rapidly evolving Fourth Industrial Revolution, and that innovation is urgently needed.

The primary research question, namely whether the Woordelys is a dictionary, is therefore approached afresh and from a relatively new and still evolving metalexicographic angle, namely the theory of lexicographic communication (TLC). The basic tenets of the TLC are: (a) In essence, lexicography is an exercise in human communication; and (b) This communication is indirect and mediated by text. These tenets require definitions of lexicography and text.

The general definition of lexicography in the literature (including dictionaries) is that lexicography is the discipline that deals with the study, planning and compilation of dictionaries. From a TLC perspective it is argued that this conception of lexicography limits the entire discipline to a single type of artefact as product, while lexicographical communication can in fact occur via a host of media, of which dictionaries represent only one type. A comprehensive definition of lexicography should rather capture the core communicative activity associated with the discipline. Considering the etymology and actual use of the terms lexicography and especially lexicographic(al) (as in “lexicographic guidance, data”, etc.) in the scientific literature, as well as the origins of the discipline, lexicography is defined as the study, planning and compilation of lexical commentary. Lexical commentary, then, is defined as consisting of one or more lexicographic messages that state a particular sign (e.g. a lexical item) and identifies it as an element of a particular set of signs (or lexicon) belonging to a particular sign system (e.g., Afrikaans), and/or convey further information pertaining to that sign (like formal, paradigmatic, syntagmatic and pragmatic properties). Lexical commentary can include lexicological commentary, but also non-linguistic and even non-verbal commentary. A lexicographic message m is defined as the product of at least one lexicographic proposition p and a communicative (speech) act Ψ, which is associated with one expression e by means of encoding/decoding or implication/inference, so that e Ψ(p), Ψ(p) = m, therefore e m. Lexicographic propositions convey the propositional contents of lexical commentary. An expression e is the realisation of a sign or series of signs to signal at least one message m, so that e m.

According to the second tenet of the TLC, lexicographical communication is mediated by text. Therefore the compilation of lexical commentary necessarily results in the production of text. From the discipline of text linguistics a working definition of text is adapted to apply to a broader range of communication modes than only linguistic sign systems, e.g. visual communication by means of diagrams or pictures. As such, a text is defined as a series of expressions experienced, presented and accepted as a communicative unit by the participants involved, where communicative unit refers to the product of the formal, syntagmatic, semantic and pragmatic relations between signs, meaning and their users respectively. Consequently, a lexicographic text can be defined as any text with the primary objective to communicate lexical commentary. By applying the principle that text types are identified according to their dominant communicative functions, the essence of a lexicographic text T can be expressed by a formula, namely T = {E, P, Q}, where E represents a set of lexicographic propositions that (i) establishes that a certain form x exists in the discourse domain, (ii) makes a statement about x’s referential value (generally, that it denotes a lexicon element y), and (iii) makes a statement about y’s membership of a given lexicon K (generally, yK); P represents a further series of lexicographic propositions about y; and Q represents a series of non-lexicographic propositions, usually to establish text cohesion. The propositions belonging to E and P should dominate the propositional contents of a lexicographic text. This is indicated by underlining E and P in the formula. Elements of Q are optional.

The nature of the series of expressions constituting a lexicographic text places that text between two poles on a coding spectrum, with pure prosaic lexicographic text at the one pole, and pure lexicogramme at the opposite pole. A pure prosaic lexicographic text is a lexicographic text in which the lexical commentary is expressed by means of prose in the natural language of the target user. Such texts typically consist of full sentences and paragraphs in the relevant language. On the other hand, a pure lexicogramme is a lexicographic text in which the lexical commentary is expressed via a sign system that is completely different from that of the target user’s natural language. Lexicographic texts on the spectrum between the poles can be characterised as strong(er) or weak(er) prosaic lexicographic texts or lexicogrammes respectively. Compare the following two texts, which are communicatively equivalent in their respective contexts:

text1 koop, ge-
text2  This paragraph deals with the existing orthographic form “koop”. This form denotes the Afrikaans verb [ko:p]. This word is an element of the lexicon of Standard Afrikaans, and in this variety the correct orthographic form is “koop”. As such, this word inflects to the past participle [xə'ko:p], with “gekoop” as its correct orthographic form.

 

Text1 is an article from the Woordelys. It consists of two expressions, namely \koop,\ and \ge-\. These two expressions encode the same set of propositions as text2 does. Both texts meet the standard of T = {E, P, Q}, and are therefore identified as lexicographic texts. The expressions in text2 correspond to a high degree with prose in English, and therefore text2 can be regarded as a strong prosaic lexicographic text. On the other hand, text1 communicates the same propositional content in a significantly different sign system, by which the expression \koop,\ encodes the propositional equivalent of the first three sentences in text2, and \ge-\ encodes the propositional equivalent of the last sentence. Therefore text1 can be characterised as a strong lexicogramme.

Having clarified the terms lexicography and lexicographic text in the TLC, the term dictionary requires definition to ultimately answer the primary research question. Assuming that a dictionary is a type of reference work, dictionary is defined as a lexicographic reference work, with lexicographic denoting “consisting primarily of lexicographic texts”.

Finally, it is established that the Woordelys is a reference work displaying an outer and inner access structure. Furthermore, the texts contained in the Woordelys are lexicographic texts and, more specifically, relatively strong lexicogrammes (cf. text1 above). Therefore, the Woordelys is a dictionary, and, more specifically, a monolingual, synchronic, standard, orthographic dictionary. The AWS is characterised as a monolingual, synchronic, standard, orthographic reference source.

By means of the Woordelys as a case study the terms lexicography, dictionary and lexicographic text are defined within the framework of the TLC. In the second contribution in this series of articles the Woordelys, as a type of dictionary, will be described in terms of the constitutive components of textuality as defined in text linguistics, i.e. cohesion, intentionality, acceptability, informativity, contextuality, intertextuality and coherence. In the third contribution the Woordelys will be evaluated as a dictionary in terms of the regulative text-linguistic principles of efficiency, effectiveness and appropriateness.

Keywords: dictionary; lexical commentary; lexicogramme; lexicographic communication; lexicographic text; lexicography; orthographic dictionary; text linguistics; text; texteme; textuality; word list

 

1. Inleiding

Hierdie artikel is die eerste een in ’n trilogie wat verslag doen van ’n intensiewe metaleksikografiese studie van die Woordelys (voortaan Woordelys) van die Afrikaanse woordelys en spelreëls. Die afkorting AWS word gebruik om na die kollektiewe uitgawes van dié werk te verwys, terwyl AWS11 verwys na die 11de uitgawe van 2017, AWS10 na die 10de uitgawe van 2009, ens. Die betrokke uitgawes word ook volgens hierdie verwysingstegniek in die bibliografie aangedui.

Die doel van hierdie studie is tweërlei: Eerstens word ’n beskrywing en evaluering van die Woordelys as ’n woordeboek onderneem; tweedens word terselfdertyd gewerk aan die uitbou van die teorie van leksikografiese kommunikasie as die teoretiese paradigma waarbinne die studie onderneem word, wat gepaard gaan met die bekendstelling van enkele nuwe terme.

’n Historiese perspektief op die Woordelys laat blyk dat die werk daaraan meer as ’n eeu gelede begin het sonder dat dit deur konkrete leksikografiese beplanning voorafgegaan is; trouens, die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, wat vir die samestelling van die AWS en derhalwe die Woordelys verantwoordelik is, het eers in 2006 begin met die saamstel van ’n leksikografiese stylgids en geformaliseerde riglyne met betrekking tot die Woordelys, en die werk daaraan duur steeds voort (Van Huyssteen 2017:326–7). Gegee die relatief onlangse ontstaan en ontwikkeling van die metaleksikografie as dissipline uit eie reg (vgl. Gouws en Prinsloo 2005:1–8) is hierdie stand van sake miskien in ’n mate te verstane. Dit is ook duidelik dat die aanvanklike samestellers die Woordelys nie as ’n woordeboek gekonsipieer het nie, soos wat in die volgende afdeling sal blyk. (Vergelyk ook Odendaal 2012 en Van Rensburg 2017 vir ’n historiese agtergrond van die Taalkommissie en die AWS.)

Die eerste vraag in ’n metaleksikografiese studie oor die Woordelys moet derhalwe dít wees: Is die Woordelys ’n woordeboek?

Die gewone taalgebruiker herken en erken ’n (gedrukte) woordeboek aan sy omslag, titel(blad), fisiese omvang, ens., maar veral aan sy bladspieël en inhoud, wat in ’n hoë mate gekonvensionaliseerd is: minstens twee kolomme wat bestaan uit ’n alfabetiese lys vetgedrukte woorde, ’n aantal gegewens oor die uitspraak, leksikale kategorie en fleksie van elk, betekenisparafrases en dalk voorbeeldsinne en/of -frases. ’n Werk wat nie hierdie eienskappe vertoon nie, maar as woordeboek voorgehou word, sal waarskynlik die tipiese reaksie ontlok dat dit nie ’n woordeboek is nie omdat dit nie soos een lyk nie. Hierdie stand van sake impliseer egter nie dat dieselfde gevolgtrekking in die teoretiese leksikografie sou geld nie. As wetenskaplike dissipline moet die metaleksikografie objektiewe kriteria ontwikkel en aanlê vir die identifikasie, klassifikasie en beskrywing van leksikografiese werke. Daarom moet ook dié vraag gestel word: Wat is ’n woordeboek?

Die studie, beplanning en saamstel van woordeboeke is die domein van die leksikografie. Volgens sekere navorsers verkeer die leksikografie vandag egter in ’n krisis, of is dit selfs in ’n stryd om oorlewing gewikkel, as gevolg van die snel ontwikkelende inligtingsomgewing wat met die Vierde Nywerheidsrevolusie gepaard gaan. ’n Grootskaalse herwaardering van die leksikografie as dissipline word bepleit, en daarom moet ook dié vraag gestel word: Wat is leksikografie?

In hierdie eerste bydrae word ’n poging aangewend om dié drie vrae (in omgekeerde volgorde) te beantwoord ten einde ’n wetenskaplike basis te vorm vir die metaleksikografiese beskrywing en evaluering van die Woordelys, wat in die tweede en derde bydraes onderskeidelik onderneem word.

 

2. Agtergrond

Oor die status van die Woordelys as ’n woordeboek al dan nie bestaan daar kontrasterende en selfs oënskynlik selfweersprekende standpunte, beide in die AWS self en in die jongste literatuur oor die AWS.

2.1 Die status van die Woordelys volgens die AWS

In “2. Die Woordelys” van die “Toeligting” tot AWS10 (2009:xvi) word die volgende verklaar:

(1) Daar word ten sterkste beklemtoon dat die Woordelys nie ’n woordeboek is nie en dat die Taalkommissie gevolglik nie probeer om ’n verteenwoordigende versameling woordeskatelemente van Afrikaans daarin te gee nie. Dat ’n bepaalde woord nie in die Woordelys verskyn nie, is dus hoegenaamd geen bewys dat hy nie bestaan of dat sy bestaansreg nie erken word nie. Woorde wat wel in die Woordelys opgeneem is, word egter beskou as deel van die Standaardafrikaanse woordeskat. (My kursivering)

 

Hierdie paragraaf is ’n woordelikse herhaling uit die toeligtings van AWS9 (2002:14) en AWS8 (1991:5). In AWS7 (1964:i) verskyn die paragraaf as deel van die “Voorwoord”, minus die laaste sin, en met die eerste sin wat lui: “Dit moet egter weer eens ten sterkste beklemtoon word dat hierdie Woordelys nie ’n woordeboek is nie en slegs op spellinggebied leiding wil gee” (my kursivering).

In die “Oriëntasie” tot die Woordelys wat in AWS9 (2002:209), AWS10 (2009:186) en AWS11 (2017:245) verskyn, lui die eerste paragraaf telkens soos volg:

(2) Die Woordelys is nie ’n volledige lys van alle bestaande Afrikaanse woorde nie. Dit is ook nie ’n woordeboek nie en moet nie as een gebruik of beskou word nie. (My kursivering)

 

Uit die voorgaande kan voorlopig die volgende twee primêre doelstellings van die Woordelys afgelei word:

(3)

a. Die Woordelys voorsien (slegs) spellingleiding.
b. In die Woordelys verskyn woorde wat elemente is van die Standaardafrikaanse leksikon (hoewel die volledige Standaardafrikaanse leksikon nie daarin verteenwoordig word nie).

 

(Daar word in die tweede bydrae in die artikelreeks op die doelstellings van die Woordelys uitgebrei.)

Dit blyk op grond van doelstelling (3)a duidelik te wees dat die samestellers die Woordelys nie as ’n woordeboek beskou nie. Sodanige standpunt strook met die tipiese opvatting van ’n woordeboek as dat dit in hierdie geval dui op ’n eentalige verklarende woordeboek (vgl. Van Sterkenburg 2003, empiries ondersteun deur Beyer en Faul 2010); dus:

(4) woordeboek = eentalige verklarende woordeboek

 

Wat in vorige uitgawes van die AWS in die paragraaf in (1) saamgevat is, word in AWS11 in twee uiteengeplaaste stellings in verskillende deeltekste verteenwoordig. In die “Voorwoord” word die volgende gemeld:

(5) Die Woordelys is en was nog nooit ’n volledige opgawe van die woordeskat van Afrikaans nie, maar bevat eerder leksikale items wat probleme met spelling en/of skryfwyse kan oplewer, ’n bepaalde verskynsel illustreer, of wat ter wille van erkenning opgeneem word. (AWS11 2017:vi–vii)

 

In “2. Woordelys” van die “Gebruikersgids” (AWS11 2017:xvii) word die volgende stelling gemaak:

(6) Die Woordelys is nié ’n tradisionele woordeboek, ’n termlys of ’n grammatika nie.

 

Die voorveronderstelling in (6) is dat die Woordelys wel ’n woordeboek is; dit is net nie ’n tradisionele (lees: eentalige verklarende) een nie. Die Taalkommissie se standpunt oor die tekstipe waartoe die Woordelys behoort, het dus blykbaar enigsins verander (minstens volgens die “Gebruikersgids”), hoewel die aard van die Woordelys onveranderd gebly het. Die rede vir die aangepaste standpunt word nie pertinent in AWS11 gemotiveer nie,1 hoewel dit afgelei sou kon word uit die res van die “Gebruikersgids” (vgl. die tweede bydrae in hierdie artikelreeks). Die teenstrydige standpunt in (2) word egter ook in AWS11 aangetref, wat nie tot klaarheid bydra nie.

2.2 Die status van die Woordelys volgens die jongste literatuur

In hulle tweedelige bydrae oor die AWS wat veral op die Woordelys fokus, wys Bosman, Taljard en Prinsloo (2017:297) en Taljard, Prinsloo en Bosman (2017:309) op Odendaal (2016:260), wat aanvoer dat die AWS as ’n woordeboek vir spesiale doeleindes beskou kan word, “aangesien die bron ’n beperkte leksikale aanbod het, asook beperkte datakategorieë”. Odendaal word aangehaal as een instansie van verskillende opinies oor “die aard van die woordelys” (Bosman e.a. 2017:297; my kursivering), hoewel dié aanhaling en soortgelyke stellings in Odendaal (2016) inderwaarheid verwys na die AWS in sy geheel en nie slegs na die Woordelys as een komponent daarvan nie. Daar blyk dus nie slegs oor die status van die Woordelys as woordeboek verskillende opinies te wees nie, maar ook oor dié van die AWS in sy geheel.

Dat die oënskynlik uiteenlopende stellings hier bo dalk nie soseer spruit uit sterk oortuigings eerder as tentatiewe oordele nie, blyk uit Van Huyssteen (2017) se bespreking van die aard, doel en funksie van die AWS. Aanvanklik huldig Van Huyssteen (2017:327) die standpunt dat

(7) [a]angesien die AWS primêr uit twee dele bestaan (d.i. die woordelys en die spelreëls), het dit ’n distinktiewe karakter, sodat dit nóg as woordeboek, nóg as grammatika/handboek beskou kan word. Dit is eerder ’n hibridiese naslaanbron met eienskappe van sowel woordeboeke as taalkundige grammatikas en selfs ’n ensiklopedie […].

 

In die volgende paragraaf verklaar Van Huyssteen (2017:327) dat “die AWS (en moontlik ook ander sogenaamde spelling- of ortografiewoordeboeke […]) geklassifiseer [kan] word as ’n beperkte, eentalige, sinchroniese, linguisties-ensiklopediese naslaanbron”. Enkele bladsye later volg die vereiste van wetenskaplike begronding wanneer “’n ortografiese woordeboek (soos die AWS)” saamgestel word (Van Huyssteen 2017:331). Aan die een kant beskou Van Huyssteen dus die AWS as nóg woordeboek, nóg grammatika of handboek, maar aan die ander kant klassifiseer hy die AWS as ’n ortografiese woordeboek (d.w.s. inderdaad as ’n soort woordeboek). Hierdie klaarblyklike selfweerspreking sou verdedig kon word vanuit die konseptuele vergelyking in (4), want vroeër dui Van Huyssteen (2017:327) aan dat die AWS se “plek in ’n groter woordeboektipologie en die ooreenkomste wat dit met standaard verklarende woordeboeke vertoon” as verwysingsraamwerk in sy bespreking dien. Die feit bly egter staan dat woordeboektipologieë daargestel word ter wille van die klassifikasie van woordeboeke, en dit volg dat die plasing van ’n naslaanbron in sodanige tipologie veronderstel dat die tersaaklike bron ’n (soort) woordeboek is. (Op hierdie aspek word in afdeling 5 teruggekeer.)

Uiteindelik neem Bosman e.a. (2017) en Taljard e.a. (2017) ook geen definitiewe standpunt in oor die status van óf die Woordelys óf die hele AWS as woordeboek nie. Hulle besprekings fokus wel op die Woordelys as “(leksikografiese) inligtingsbron” vir die beantwoording van vrae “[b]elangriker as die tipologiese status van die Woordelys as spesiale woordeboek al dan nie” (Taljard e.a. 2017:309), maar wel so aan die hand van leksikografiese beginsels. Hieruit kan wel met ’n redelike mate van sekerheid afgelei word dat Bosman e.a. (2017) en Taljard e.a. (2017) die “Spelreëls”, as tweede primêre komponent van die AWS, uitsluit as ’n leksikografiese werk.

Odendaal (2016:260) se beskouing van die AWS as “woordeboek vir spesiale doeleindes” word gegrond op ’n verwysing na Gouws en Prinsloo (2005:47) se onderskeid tussen algemene en beperkte woordeboeke. Taljard e.a. (2017:309) meld ter ondersteuning van Odendaal (2016) dat aangevoer sou kon word dat die Woordelys dien as ’n “spel- of ortografiese woordeboek” op grond daarvan dat “’n ortografiese woordeboek geen ander leksikografies relevante inligting verstrek nie”. Die rede(s) vir die klassifikasie van die Woordelys as ’n woordeboek word nie verstrek nie; slegs die subklassifikasie as “woordeboek vir spesiale doeleindes” en “ortografiese woordeboek” word gemotiveer. Wat presies onder leksikografiese inligting verstaan word (en wat presies ’n woordeboek is) word vir die doeleindes van hulle bydrae klaarblyklik as veronderstelde kennis aanvaar.

Uit die voorgaande word dit duidelik dat daar nie slegs uiteenlopende standpunte bestaan of geïmpliseer word oor óf die Woordelys ’n soort woordeboek is nie, maar ook oor wát ’n woordeboek is. Bergenholtz en Agerbo (2018:104) redeneer dat die sentrale probleem vir tipologieë en klassifikasies van woordeboeke in die volgende vraag lê: Wat is ’n woordeboek en wat is nie ’n woordeboek nie? Dit is derhalwe nodig om klaarheid te verkry oor die begrip woordeboek. Daarvoor moet die metaleksikografie geraadpleeg word, waarbinne bepaalde paradigmas en teoretiese raamwerke bestaan. In hierdie studie word die teorie van leksikografiese kommunikasie toegepas en terselfdertyd uitgebou om hierdie vraag te beantwoord.

 

3. Teoretiese raamwerk

3.1 Die teorie van leksikografiese kommunikasie

Die teorie van leksikografiese kommunikasie (TLK), wat steeds in ontwikkeling is, het sy oorsprong in Beyer (2006) se leksikografiese kommunikasiemodel vir die evaluering van woordeboeke op grond van Shannon en Weaver (1949) se klassieke kommunikasiemodel, soos uitgebou deur verskeie teoretici vir verskillende doeleindes (bv. Schramm 1954; Lyons 1977; Cruse 2000). Die verskyning van Yong en Peng (2007) se kommunikasieteorie vir tweetalige leksikografie het die ontwikkeling van die model tot ’n tentatiewe teorie gestimuleer. Aspekte van dié ontwikkeling is gerapporteer in onder meer Beyer (2013), en bepaalde elemente is geformaliseer in Beyer (2014) en Beyer en Augart (2017). In Beyer (2018) word die tentatiewe teorie verder op die basis van De Saussure (2013) se semiotiek uitgebou. Die TLK trek voordeel uit reeds ontwikkelde metaleksikografiese paradigmas, soos die teorie van leksikografiese tekste (vgl. o.m. Wiegand 1996; Gouws, Heid, Schweickard en Wiegand 2013) en die sogenaamde moderne teorie van leksikografiese funksies (vgl. o.m. Bergenholtz en Tarp 2003; Tarp 2008, 2013 – voortaan “die funksieteorie”), maar daar is belangrike punte van uiteenloping, wat aangedui word waar dit ter sake is.

Volgens Beyer en Augart (2017:6–10) berus die TLK op twee sentrale beginsels, naamlik: (a) In sy wese is die leksikografie ’n oefening in menslike kommunikasie; (b) Dié kommunikasie is indirek en word deur teks bemiddel. Gevolglik is die sentrale vraag van die TLK: Hoe word leksikografiese betekenis in ’n teks geskep?

’n Holistiese (en enigsins eklektiese) benadering laat die TLK toe om, in aanvulling tot bestaande metaleksikografiese kennis, te put uit die algemene kommunikasieteorie, die algemene taalwetenskap, die tekslinguistiek en die breër tekswetenskap, wat daarvan ’n duidelik interdissiplinêre raamwerk maak.

Daar dien ook op gewys te word dat die TLK tans nie in die eerste plek gemoeid is met ’n beskrywing van die leksikografiese proses nie, maar dat die fokus op die teks as middel vir menslike leksikografiese kommunikasie is, want sonder die teks is leksikografiese kommunikasie onmoontlik en die ganse leksikografiese proses ’n futiele onderneming. Uiteraard sou metodologiese begrippe as komponente van ’n leksikografiese proses uit ’n goedgeformuleerde teorie afgelei of geïdentifiseer kon word, soos wat uit De Beaugrande en Dressler (1981:220) se karakterisering van tekste blyk: “By defining texts as actual communicative occurrences, we are obliged to consider all the factors of control and processing in realistic settings.”

Die term teks staan duidelik sentraal in die TLK en vra dus om definisie. Vir die doeleindes van hierdie studie word Carstens (1997:82) se werksdefinisie, wat op sy kritiese oorweging van minstens 84 ander definisies gegrond is, as vertrekpunt geneem:

def1 ’n Teks is ’n stuk taalgebruik wat deur die betrokke teksdeelnemers as EENHEID ervaar en aanvaar word op sintaktiese, semantiese en pragmatiese gronde.

 

Hoewel def1 kan deug vir spesifiek die tekslinguistiek, benodig dit binne ’n breër kommunikatiewe benadering effense aanpassing: Die frase “’n stuk taalgebruik” is relatief vaag wat betref die grense van ’n teks (’n teks sou stellig uit verskeie “stukke” taalgebruik kon bestaan), en die verwysing na spesifiek taal beperk “sintaktiese, semantiese en pragmatiese gronde” tot ’n suiwer taalwetenskaplike interpretasie en sluit die teks as kommunikasiemodus vir ander moontlike tekensisteme uit. Hierop word in afdeling 3.2.3.1 teruggekeer.

Vervolgens word die term leksikografie en verwante terme binne die raamwerk van die TLK gedefinieer, teen die agtergrond van die uitdagings waarmee die dissipline gekonfronteer word.

3.2 Leksikografie: ’n (her)definiëring

Uit die titels en inhoud van relatief onlangse artikels soos “What is lexicography?” (Bergenholtz en Gouws 2012), “What is a dictionary?” (Bergenholtz 2012) en “Who can really be called a lexicographer?” (Gouws 2012) in die leksikografievaktydskrif Lexikos blyk dit dat daar onder navorsers nie eenstemmigheid bestaan oor die antwoorde op hierdie vrae nie, veral ook in die snel ontwikkelende inligtingstegnologie-omgewing wat kenmerkend is van die Vierde Nywerheidsrevolusie. Bergenholtz en Agerbo (2018) meen byvoorbeeld vanuit ’n funksieteorieperspektief dat ’n telefoongids ’n tipe leksikografiese hulpbron is – ’n standpunt wat die TLK se begrip van die leksikografie nie kan akkommodeer nie en wat, soos Bergenholtz en Agerbo self erken, ook nie universeel in die metaleksikografiese gemeenskap aanvaarbaar is nie (vgl. bv. Atkins en Rundell 2008; Swanepoel 2015). In die onderhawige afdeling sal gepoog word om die tersaaklike begrippe binne die raamwerk van die TLK en die eietydse konteks uit te klaar, ook met die oog op die toepassing daarvan op die Woordelys.

3.2.1 Wat is leksikografie?

In die vakliteratuur bied Bergenholtz en Gouws (2012:39) ná ’n oorsig van en kritiek op ’n aantal bestaande definisies die volgende relatief onlangse definisie vir die term leksikografie aan:

def2 Lexicography is the discipline dealing with theories about recently completed and also older existing dictionaries but also about future dictionaries as planned and produced by lexicographers.

 

As die oënskynlike vooroordeel ten gunste van die teoretiese leksikografie daar gelaat word, kan def2 soos volg geparafraseer word:

def3 Leksikografie is die vakkundige dissipline wat te doen het met die studie, beplanning en saamstel van woordeboeke.

 

Def3 stem grootliks ooreen met die betekenisparafrases wat in algemene verklarende woordeboeke vir die lemma leksikografie aangebied word.2 Van belang is dat beide definisies die volgende soort logiese implikasie ondersteun:

(8) leksikografie → woordeboeke

 

Hierdie implikasie blyk ook te strook met die vroegste gebruik van die woord lexicography, ten minste volgens The Oxford English Dictionary (Simpson en Weiner 1989:876) en Tarp (2019). Vergelyk verder Wiegand (1984, 1989) en Gouws (2017) se standpunt dat die leksikografie ’n wetenskaplike praktyk is wat op die daarstel van woordeboeke gerig is.

Die afleiding leksikografies word in die meeste gedrukte, algemene, verklarende woordeboeke glad nie gelemmatiseer nie, of dit word as onverklaarde lemma ná die woordeboekartikel van die lemma leksikografie verstrek; in elektroniese woordeboeke word die gebruiker dikwels na die lemma leksikografie herlei indien die soekitem leksikografies ingevoer word. Sodanige behandeling en prosedure kommunikeer klaarblyklik aan die gebruiker dat die adjektief leksikografies die betekeniswaarde “wat op die studie, beplanning en saamstel van woordeboeke betrekking het” dra. Hierdie betekeniswaarde word gevind in onder meer terme soos leksikografiese proses, wat byvoorbeeld verwys na ’n bepaalde prosesbenadering tot die beplanning en saamstel van woordeboeke (vgl. Gouws en Prinsloo 2005).

Hierdie tipies beperkte behandeling van die lekseem leksikografies laat egter nie ten volle reg geskied aan die semantiese kompleksiteit daarvan nie. Bosman e.a. (2017:297) gebruik byvoorbeeld die adjektief leksikografies met verwysing na AWS-woordelyste wat sedert 1917 “in beperkte mate leksikografiese leiding” bied, en Taljard e.a. (2017:309) karakteriseer die AWS as “’n preskriptiewe leksikografiese inligtingsbron” (telkens my kursivering). Bergenholtz en Agerbo (2018:97) stel byvoorbeeld ’n tipologie van “lexicographical tools” binne ’n breë begrip van die term voor, waaronder woordeboeke ressorteer. Vergelyk ook die term leksikografiese kommunikasie, wat onder meer in hierdie artikelreeks gebruik word, Yong en Peng (2007) se ekwivalente lexicographic communication en die gebruik van die term lexicographical data (Afr. leksikografiese data) in die metaleksikografiese literatuur (bv. Tarp 2019). Hierdie instansies is maar enkeles wat eksemplaries is van algemene gebruik en wat ’n bykomende – of onderliggende – betekeniswaarde impliseer, want kennelik word daar nie verwys na onderskeidelik leiding, inligting, hulpmiddele, kommunikasie en data met betrekking tot die beplanning en saamstel van woordeboeke nie.3

In Tarp en Gouws (2019) en Tarp (2019) se oorsig van die oorsprong van die Europese leksikografie in die vyfde eeu voor Christus word gewys op die Griekse skribas van destyds as voorlopers van moderne leksikograwe. Hulle het naamlik glosse in die kantlyne van manuskripkopieë bygevoeg om ongewone en verouderde woorde in die vroeër werke van Homeros en ander skrywers te verklaar. Later is hierdie glosse in aparte glossaria saamgestel, wat uiteindelik tot moderne woordeboeke aanleiding sou gee.

Tarp (2019:230) voer aan dat die logiese implikasie in (8) hier bo nie noodwendig sonder meer waar is nie, indien die etimologie van die term leksikografie oorweeg word:

The term “lexicography” is originally Greek and means “writing about the lexicon”, precisely what the scribes did. They produced lexicographical data (glosses) addressed to difficult words (glotta) that were later compiled into the glossaries that represent prototype dictionaries in the European tradition.

Die gebruik van die afleiding leksikografies in onder meer die bogenoemde voorbeelde lê die etimologie van die stam leksikografie bloot en ondersteun die gedagte dat die tersaaklike begrip nie slegs met woordeboeke te doen het nie, maar ook en eerder met wát in woordeboeke gevind kan word. Trouens, Tarp (2019:231) meen dat moeilikheid reeds aangebreek het vir die leksikografie in die Vierde Nywerheidsrevolusie indien die neiging in (8) geldig bly:

Basically, lexicographers have two options in the long run. Either they accept that their profession comprises far more than the compilation of dictionaries, or they will have to prepare a farewell party for lexicography as a millennial cultural practice because their own work is increasingly presented in forms different from the traditional dictionary.

Binne die paradigma van die TLK moet ’n herdefiniëring van leksikografie wel rekening hou met dié teorie se twee sentrale beginsels, soos in afdeling 3.1 gemeld. Gegee die etimologie van die term en die oorsprong van die leksikografie as praktyk, kan die werk van die skribas van ouds beskou word as die voorsiening van leksikale kommentaar (vgl. 3.2.2) deur die medium van primitiewe leksikografiese tekste in die kantlyne van die manuskripkopieë, en later deur vollediger, komplekser leksikografiese tekste in die latere glossaria en uiteindelik in woordeboeke.

Indien die begrip leksikografie losgewikkel word van die begrip woordeboek, soos wat Tarp (2019) en Tarp en Gouws (2019) blykbaar suggereer, kan leksikografie soos volg opnuut gedefinieer word:

def4 Leksikografie is die vakkundige dissipline wat te doen het met die studie, beplanning en saamstel van leksikale kommentaar.

 

Hierdeur word die implikasie in (8) vervang deur die volgende een:

(9) leksikografie → leksikale kommentaar

 

Die begrip leksikografie word ingrypend verruim tot ’n veel omvattender domein as bloot woordeboeke, vergelykbaar met die joernalistiek, wat vandag met veel meer as koerante geassosieer word. Leksikografiese kommunikasie kan in ’n wye spektrum tipes en deur middel van ’n verskeidenheid media en kanale plaasvind, waarvan woordeboekbemiddelde leksikografiese kommunikasie ’n tipiese en tradisionele eksponent is, maar hoegenaamd nie die enigste een nie. Leksikale kommentaar is dus nie tot woordeboektekste beperk nie. Insgelyks is teoretiese leksikografie en woordeboeknavorsing nie aan mekaar gelyk te stel nie: Die teoretiese leksikografie sluit woordeboeknavorsing in, maar woordeboeknavorsing is nie die somtotaal van die teoretiese leksikografie nie. Gouws (1989:25) se stelling in die konteks van ’n taalwetenskaplike leksikografieteorie dat die leksikografie te make het “met die beskrywing en verklaring van ’n taal se woordeskat of van ’n subversameling leksikonelemente” weerspieël in ’n groot mate so ’n omvattender benadering. Sodanige vernuwing in die konseptualisering van die leksikografie kan die dissipline toelaat om die uitdagings van die Vierde Nywerheidsrevolusie sinvol die hoof te bied.

Uiteraard is def4 nutteloos indien daar nie inhoud gegee word aan die terme leksikale kommentaar en leksikografiese teks nie, veral gesien in die lig daarvan dat (gedeeltelik) soortgelyke terminologie in Wiegand (1990, 1996, ens.) se teorie van leksikografiese tekste gebruik word. Dít word in die volgende afdelings gedoen.

3.2.2 Wat is leksikale kommentaar?

In die TLK word die term leksikografie en die oorsprong van die benoemde praktyk gekoppel aan De Saussure (2013) se semiotiese beskrywing van die aard van taal as ’n tekensisteem wat bestaan uit ’n kode (oftewel ’n grammatika) en ’n versameling tekens (oftewel leksikonelemente) wat volgens die kode in sintagmatiese en paradigmatiese verhoudings met mekaar tree om betekenis gedurende kommunikasie oor te dra (vgl. ook Beyer 2018). Sodanige benadering bemiddel ’n definisie op die hoogste vlak van abstraksie vir die kommunikatiewe kern van die leksikografiese aktiwiteit, naamlik die lewering van leksikale kommentaar:

def5 Leksikale kommentaar word gelewer deur een of meer leksikografiese boodskappe, wat ’n bepaalde teken (bv. ’n leksikale item) stel en as element van die versameling tekens (oftewel leksikon) van ’n bepaalde tekensisteem (bv. Afrikaans) identifiseer, en/of verdere inligting met betrekking tot daardie teken (bv. vormlike, paradigmatiese, sintagmatiese en pragmatiese eienskappe) oordra.

 

Waar dit gaan oor spesifiek taaltekens, neem leksikale kommentaar ’n bepaalde leksikale item of lekseem as vertrekpunt en sentreer normaalweg daarrondom, terwyl grammatiese en leksikologiese kommentaar die grammatika en derhalwe ’n bepaalde grammatiese kategorie of struktuur, of ’n leksikologiese verskynsel of konstruk, as vertrekpunt neem. Vergelyk Zgusta (1973:14) se onderskeid tussen die leksikologie en die leksikografie:

Both lexicology and lexicography study the lexicon, but whereas lexicology concentrates more on general properties and features that can be viewed as systematic, lexicography typically has the so to say individuality of each lexical unit in the focus of its interest.

Uiteraard kan daar oorvleueling voorkom tussen leksikale en grammatiese/leksikologiese kommentaar, soos wanneer die sintagmatiese eienskappe van ’n bepaalde leksikonelement beskryf word. Leksikale kommentaar oor die werkwoord neem sou byvoorbeeld kon insluit dat dit ’n oorganklike werkwoord is, terwyl grammatiese/leksikologiese kommentaar sou verduidelik dat ’n oorganklike werkwoord in ’n sin verpligtend met ’n direkte voorwerp kombineer, waarvan die werkwoord neem ’n enkele voorbeeld is. Daarbenewens sluit leksikale kommentaar nie noodwendig (slegs) taalkundige kommentaar in nie, terwyl leksikologiese kommentaar noodwendig taalkundige kommentaar sal wees, aangesien die leksikologie ’n onderafdeling van die taalkunde is.

Die term boodskap staan sentraal in die algemene kommunikasieteorie (vgl. Beyer 2006, 2014; Sebeok 2006; Bock 2014a). Vir die doel van die TLK word die volgende definisie in taalwetenskaplike terme voorgestel:

def6 ’n Boodskap b is die produk van minstens een proposisie (lokusie) p en ’n kommunikatiewe handeling Ψ, wat aan een uitdrukking u verbind kan word deur óf enkodering/dekodering óf implikasie/inferensie, sodat u → Ψ[p]; Ψ[p] = b; daarom: ub.

 

Dit volg dan dat ’n leksikografiese boodskap ’n leksikografiese proposisie bevat en sodoende ’n element van leksikale kommentaar daarstel. Leksikografiese proposisies dien om leksikale data/inligting tydens leksikografiese kommunikasie oor te dra.4 Vergelyk die volgende leksikografiese proposisies, wat elk kommentaar op ’n sintagmatiese en vormlike eienskap van die leksikale items koop en ry onderskeidelik lewer:

pi = Die werkwoordvorm koop flekteer in Standaardafrikaans tot die verlededeelwoordvorm gekoop, as sodanig met die ortografiese vorm “gekoop”.

pj = Die werkwoordvorm ry flekteer in Standaardafrikaans tot die verlededeelwoordvorm gery, as sodanig met die ortografiese vorm “gery”.

Na aanleiding van Bock (2014b) word die term kommunikatiewe handeling as superordinaat vir taalhandeling in die TLK gebruik. Sover vasgestel kon word, is daar nog nie navorsing onderneem oor kommunikatiewe handelinge in leksikografiese tekste nie; derhalwe word staatgemaak op die algemene literatuur oor taalhandelinge, vernaam die seminale werk van Austin (1975) en Searle (1969), asook die Afrikaanse literatuur daarop gebaseer, soos De Stadler (1989) en Van Niekerk en Olivier (2017). (In die tweede bydrae in hierdie artikelreeks word gepastheidsvoorwaardes vir kommunikatiewe handelinge in die Woordelys voorgestel.)

Indien die proposisies pi en pj onderskeidelik kombineer met die kommunikatiewe handeling STELLING, gesimboliseer deur “$”, kan die resulterende boodskappe bi en bj soos volg geformaliseer word:

bi = $[pi]

bj = $[pj].

Boodskappe word deur uitdrukkings gesein (def6). Volgens De Saussure (2013) se semiotiek bestaan ’n teken uit twee onderskeibare maar onskeibare komponente, te wete die uitdrukking, aanduider of vorm van die teken enersyds, en die begrip, inhoud of betekeniswaarde van die teken andersyds. Gevolglik kan uitdrukking soos volg binne die TLK gedefinieer word:5

def7 ’n Uitdrukking u is die realisering van ’n teken of ’n reeks tekens (oftewel ’n sintagma) om minstens een boodskap b te sein, sodat ub.

 

Vergelyk die volgende twee Woordelys-artikels (AWS11 2017:384, 481):

wa1 
wa2
koop, ge-
ry, ge-

 

’n Stel trusolidusse \ \ word gebruik om ’n uitdrukking aan te haal. Elke artikel hier bo bevat twee uitdrukkings: Die uitdrukkings in wa1 is \koop,\ en \ge-\, en dié in wa2 is \ry,\ en \ge-\. Die uitdrukking \ge-\ in elke artikel enkodeer onder meer die boodskappe bi en bj onderskeidelik.6 Watter kommunikatiewe funksie (d.w.s. betekenis) aan watter uitdrukking gekoppel kan word, word egter nie primêr deur die betrokke uitdrukking bepaal nie, maar deur dié se sintagmatiese verhoudings met ander uitdrukkings in die tersaaklike teks; byvoorbeeld die feit dat \ge-\ onmiddellik op onderskeidelik \koop,\ en \ry,\ volg, bepaal die toekenning van bi en bj in plaas van enige ander betekenis. Hierdie aspek kom in die tweede bydrae in hierdie artikelreeks aan bod. Die bostaande terme kom weer ter sprake in afdeling 3. Dit is nou eers nodig om die begrip leksikografiese teks te beskryf.

3.2.3 Wat is ’n leksikografiese teks?

Die begrip leksikografiese teks veronderstel die begrip teks. Daarom moet laasgenoemde begrip eers uitgeklaar word.

3.2.3.1 Die begrip teks

In afdeling 3.1 is gemeld dat Carstens (1997:82) se werksdefinisie van teks (def1) problematies is weens die frase “’n stuk taalgebruik” se relatiewe vaagheid en die verwysing na taal tot die uitsluiting van ander tekensisteme. Nou kan die volgende definisie voorgestel word:

def8 ’n Teks T is ’n reeks uitdrukkings wat deur die betrokke deelnemers as kommunikatiewe eenheid ervaar, aangebied en aanvaar word.

 

In def8 word “’n stuk taalgebruik” van def1 vervang deur “’n reeks uitdrukkings”, sodat die definisie nie tot ’n bepaalde (tipe) tekensisteem, kode, medium of kanaal beperk is nie. ’n Teks is dus nie noodwendig slegs die produk van ’n reeks skriftelike of selfs verbale tekens nie. Dit sou ook uit ’n reeks klank- of nieverbale tekens (bv. prente of diagramme) kon bestaan. Die betekenis van “sintaktiese, semantiese en pragmatiese gronde” in def1 moet gevolglik na aanleiding van Schramm (1954) verruim word, met sintaksis as die formele eienskappe van, oftewel sintagmatiese verhoudings tussen, (reekse) tekens, semantiek as die verhoudings tussen uitdrukkings en betekenis, en pragmatiek as die verhoudings tussen tekens en hulle gebruikers. Die medewerking van hierdie dimensies bewerkstellig dan ’n gegewe reeks uitdrukkings se kommunikatiewe eenheid. Dit is ook nodig om by te voeg dat ’n teks as sodanig deur die teksproduseerder aangebied word. ’n Teks ontstaan nie vanself nie, maar is die produk van ’n doelbewuste teksproduksieproses (ten minste aan die teksproduseerder se kant).

Van kernbelang is dat die begrip teks in terme van die tekslinguistiek (en derhalwe binne die TLK) die konstitutiewe komponente van tekstualiteit, naamlik kohesie, intensionaliteit, aanvaarbaarheid, kontekstualiteit, informatiwiteit, intertekstualiteit en koherensie, asook die regulerende komponente, naamlik doeltreffendheid, effektiwiteit en geskiktheid, omvat (vgl. De Beaugrande en Dressler 1981; Carstens 1997). Die konstitutiewe komponente sal veral in die tweede bydrae in hierdie reeks tot hulle reg kom, en die regulerende komponente in die derde een.

3.2.3.2 Die begrip leksikografiese teks

Volgens Wiegand (1996a) en Wiegand en Gouws (2013) is die tipiese woordeboekartikel ’n gekondenseerde weergawe van ’n natuurliketaalteks wat leksikografiese tekstualisering deur middel van teksverdigting ondergaan het. Teen die agtergrond van Wiegand (1984) se beskrywing van die leksikografie wat met die implikasieverhouding in (8) ooreenstem, blyk die implikasie te wees dat slegs woordeboekartikels as leksikografiese tekste beskou sou word. Hierdie siening, wat vir Wiegand se teorie van leksikografiese tekste geld, word egter nie in die TLK gehandhaaf nie (vgl. Beyer 2018:11–3). Binne laasgenoemde paradigma kan leksikografiese teks soos volg gedefinieer word:

def9 ’n Leksikografiese teks T is enige teks wat die primêre doel het om leksikale kommentaar te kommunikeer.

 

In terme van die voorafgaande begrippe kan die wese van ’n leksikografiese teks soos volg geformaliseer word: ’n Leksikografiese teks T bestaan uit drie reekse proposisies E, P en Q, soos volg:

E = ’n reeks leksikografiese proposisies wat (i) dit stel dat ’n vorm (oftewel uitdrukking) x in die tersaaklike diskoersdomein bestaan; (ii) ’n stelling maak oor die verwysingswaarde van vorm x (gewoonlik dat x ’n leksikonelement (oftewel teken) y denoteer); en (iii) ’n stelling maak oor y se lidmaatskap van ’n gegewe leksikon K (gewoonlik yK (waar |K| > 1))7

P = ’n reeks verdere leksikografiese proposisies oor y

Q = ’n reeks nieleksikografiese proposisies.

Derhalwe kan ’n leksikografiese teks oor y, naamlikTy, uitgedruk word deur die vergelyking

          ℓTy = {Ey, Py, Q},

waar |Ey| ≥ 1, |Py| ≥ 1, en |Q| ≥ 0. Die elemente van Q is fakultatief en lewer nie leksikale kommentaar nie, maar funksioneer byvoorbeeld as teksstruktuurproposisies wat tot tekskohesie bydra (vgl. die tweede bydrae in hierdie artikelreeks).8 Leksikografiese proposisies moet die informatiwiteit (makroproposisionele inhoud) en intensionaliteit (makrokommunikatiewe inhoud) van die teks domineer, wat deur die onderstreping van E en P onderskeidelik in Ty aangedui word.9 Dit veronderstel normaalweg dat |E U P| > |Q|. ’n Teks wat slegs óf E óf P bevat, is nie ’n leksikografiese teks nie. ’n Leksikografiese teks Ty moet dus minstens twee leksikografiese proposisies bevat: minstens een uit die versameling Ey en minstens een uit die versameling Py. ’n Teks wat sowel E as P bevat, maar waarin die tersaaklike elemente nie die informatiwiteit en intensionaliteit domineer nie, is nie ’n leksikografiese teks nie: E en P verteenwoordig dan leksikale kommentaar binne ’n groter, andersoortige teks, byvoorbeeld ’n definisie van monargie in ’n geskiedenishandboek of kommentaar op die prosodiese kenmerke van ’n bepaalde woord in ’n leksikologiese studie.

Wat kodering betref, word vanuit die TLK voorgestel dat ’n gegewe leksikografiese teks op ’n spektrum tussen twee pole op ’n koderingskaal lê. Op die een pool staan suiwer prosaïese leksikografiese tekste, en op die teenoorstaande pool staan suiwer leksikogramme.

’n Suiwer prosaïese leksikografiese teks is ’n leksikografiese teks waarin die leksikale kommentaar deur prosa in die “natuurlike taal” van die teikenleser (’n sosiale tekensisteem) gekommunikeer word. (Vgl. Chandler 2007:147–73 oor tekensisteme en kodes.) Die tekstuele kode is die sekondêre kode. Die leksikale kommentaar realiseer derhalwe in ’n reeks leksikografiese uitdrukkings soos sinne, wat deur die tersaaklike taal se grammatika gegenereer word. Deur middel van die tersaaklike tekstuele kode word die geproduseerde sinne saamgevoeg tot paragrawe, artikels, ens. om natuurliketaaltekste te vorm. Sodanige tekste vertoon nie konvensionele “leksikografiese struktuur” nie, want hulle kan in verskeie tekssoorte neerslag vind; die deelterm leksikografiese teks slaan dus op inhoud eerder as struktuur. Hulle kan wel ontleed word in terme van tekslinguistiese komponente en potensieel teksgrammatikas soos toegepas op die betrokke taal en tekssoort (d.w.s. tekstuele kode). Otto en Boekkooi (2020) se beskrywende akademiese artikel oor die herkoms van ’n aantal Afrikaanse uitdrukkings wat verband hou met die see kan byvoorbeeld beskou word as ’n sterk prosaïese leksikografiese teks, aangesien dit ’n teks is waarin oorwegend leksikale kommentaar oor ’n aantal Afrikaanse leksikonitems deur die tekensisteem van ’n natuurlike taal gelewer word. Hoewel dit inhoudelik ’n leksikografiese werk is, is dit volgens die tekstuele kode van ’n akademiese artikel gekodeer (d.w.s. in akademiese styl, met bepaalde afdelings, ens.). Uit hierdie voorbeeld blyk ’n verdere eienskap van ’n prosaïese leksikografiese teks: Dit het nie noodwendig slegs een leksikonitem as onderwerp nie, maar kan verskeie items behandel.

’n Suiwer leksikogram is ’n leksikografiese teks (normaalweg ’n woordeboekartikel) waarin die leksikale kommentaar deur ’n eiesoortige, funksioneel afgestemde tekstuele tekensisteem gekommunikeer word. Die teikenleser se taal (sosiale tekensisteem) is die sekondêre tekensisteem. Kortom: ’n Leksikogram se oppervlakteks korrespondeer nie met prosa in (die teikenleser se) natuurlike taal nie. In ’n leksikogram realiseer die leksikale kommentaar in ’n reeks leksikografiese uitdrukkings wat deur die tersaaklike tekstuele tekensisteem gegenereer word en tot verskillende klasse tekseme behoort. (Die vier uitdrukkings in wa1 en wa2 gesamentlik behoort byvoorbeeld tot twee tekseemklasse: \koop,\ en \ry,\ behoort tot die tekseemklas wat die lemmateken in ’n artikel aandui, terwyl \ge-\ in wa1 en \ge-\ in wa2 tot die tekseemklas behoort wat die verledetydsvorm van ’n verbale lemma aandui – meer hieroor in die tweede bydrae.) Leksikogramme is struktureel uiters gekonvensionaliseerde tekste, wat beteken dat die tekssoort in die eerste instansie deur struktuur eerder as inhoud bepaal word: ’n Alleenstaande leksikogram sou herken kon word bloot op grond van die teksstruktuur, selfs al kom dit uit ’n woordeboek van ’n volkome vreemde taal, op dié voorwaarde dat die waarnemer wel minstens in ’n mate vertroud is met die tipiese struktuur van ’n leksikogram (vgl. Beyer 2018). Dieselfde soort beginsel geld vir ander hoogs gekonvensionaliseerde tekssoorte, soos formele briewe en draaiboeke. ’n Leksikogram kan ontleed word in terme van beginsels of komponente van tekstualiteit soos toegepas op die betrokke tekstuele tekensisteem (wat ook van die tekslinguistiek afgelei sou kon word). Anders as wat in prosaïese leksikografiese tekste moontlik is, behandel ’n suiwer leksikogram slegs een element van die teikenleksikon.

Leksikografiese tekste op die spektrum tussen die pole van die koderingskaal kan beskryf word as swak(ker) of sterk(er) leksikogramme al dan prosaïese leksikografiese tekste na gelang van die graad van tekstuele hibriditeit.10 ’n Tipiese woordeboekartikel waarin die betekenisparafrase uit ’n leksikale sinoniem of frase bestaan, verteenwoordig byvoorbeeld ’n sterker leksikogram as ’n woordeboekartikel wat andersins identies is, maar waarin die betekenisparafrase in volsinvorm aangebied word. Die Woordelys-artikels wa1 en wa2 hier bo is voorbeelde van relatief sterk leksikogramme. ’n Suiwer prosaïese leksikografiese teks n-T1 wat kommunikatief ekwivalent is aan wa1, sou soos volg daar kon uitsien:

n-T1 Hierdie paragraaf gaan oor die bestaande ortografiese vorm “koop”. Dié vorm denoteer die Afrikaanse werkwoord koop. Dié woord is ’n element van die leksikon van Standaardafrikaans, waarin die korrekte ortografiese vorm daarvan “gekoop” is. As sodanig flekteer dié woord tot die verlededeelwoordvorm gekoop, met die korrekte ortografiese vorm “gekoop”.

 

Hierdie teks sou as Woordelys-artikel kon dien, maar die leksikogramekwivalent wa1 is ’n meer geskikte teks, gegee die Woordelys se ekologie.11 (Geskiktheid as regulerende komponent van tekstualiteit kom in die derde bydrae in hierdie artikelreeks aan bod.)

Die begrippe tekseem en teksgrammatika vorm die kern van die tweede bydrae in hierdie artikelreeks en sal daarin beskryf word.

3.2.4 Wat is ’n woordeboek?

Vir die doeleindes van hierdie studie word van die veronderstelling uitgegaan dat ’n woordeboek ’n soort naslaanbron is. Vir naslaanbron kan die volgende definisie in kommunikatiewe terme, gesintetiseer uit Wiegand (1987) en Kühn (1989:115), voorgestel word:

def10 ’n Naslaanbron is ’n informatiewe hulpbron wat ontwerp is om spesifieke eenhede inligting oor ’n bepaalde reeks onderwerpe in sistematies georganiseerde sintakties, semanties en pragmaties geskikte tekste oor te dra ten einde bepaalde, spesifieke potensiële vrae na sodanige eenhede inligting deur die teikengebruikers daarvan te beantwoord.

 

’n Onlangse definisie van dictionary, vanuit die funksieteorie, lui soos volg:

def11 A dictionary is a utility tool, which is conceived for consultation with the genuine purpose of meeting punctual information needs experienced by specific types of potential user in specific types of extra-lexicographical context, and which is designed to assist its users by providing manual or automatic access to lexicographically prepared data, which can either be used directly by the users in order to retrieve the required information which they can subsequently use to solve specific problems in the context where the needs originally occurred, or by a digital tool in order to make automatic corrections in texts or translations produced by the users of this tool. (Tarp 2018:246)

 

Enkele opmerkings oor def11 moet aan die orde kom:

Afgesien van die term extra-lexicographical context, die frase “lexicographically prepared data” en die laaste sinsdeel, “or by a digital tool in order to make automatic corrections in texts or translations produced by the users of this tool”, is daar inhoudelik weinig verskil tussen def10 en def11. Dat daar in soveel besonderhede op die naslaanaspek van ’n woordeboek in def11 ingegaan word, herinner aan Swanepoel (2015:354) se pleidooi dat ’n waarlik multidissiplinêre benadering in die leksikografie nodig is, maar “nie een waarin die leksikografie gereduseer word tot die dienskneg van ’n ander dissipline, soos die inligtingskunde […] nie”. Dit is duidelik dat die grootste gedeelte van die definisie van woordeboek eenvoudig deur die superordinaat naslaanbron gedek kan word.

Die term buiteleksikografiese konteks staan in die funksieteorie teenoor die term leksikografiese konteks. Laasgenoemde verwys na die spesifieke situasie waarin ’n gebruiker besig is met ’n woordeboekgebruiksprosedure en die veranderlikes wat daarmee verband hou, terwyl eersgenoemde hierdie situasie uitsluit van die konteks waarin die gebruiker verkeer (vgl. Tarp 2008). Dit gaan dus in def11 oor ’n konteks waarin potensiële gebruikers inligtingsbehoeftes buite die onmiddellike situasie van woordeboekgebruik ondervind, wat tot sodanige onmiddellike situasie aanleiding kan gee. Die onderskeid tussen die twee kontekste is belangrik (en geld trouens vir enige soort naslaanbron), hoewel die terminologie onlogies aandoen weens die deelterm lexicographical, wat selfs binne die funksieteorie se definisie(s) van die term leksikografie verwys na die studie, beplanning en maak van woordeboeke en ander leksikografiese hulpmiddele (vgl. def2). Daarom word in die TLK gebruik gemaak van die term gebruiksituasie eerder as die funksieteorie se leksikografiese konteks, en gebruikersituasie eerder as buiteleksikografiese konteks.

Die laaste deel in def11, naamlik “by a digital tool in order to make automatic corrections in texts or translations produced by the users of this tool”, verwys na byvoorbeeld ’n speltoetser as digitale hulpmiddel in ’n woordverwerkingsprogram wat moontlike skryffoute identifiseer en korreksies voorstel of wat outomaties korreksies in tekste aanbring. Hierdie hulpmiddel is volgens Bergenholtz en Agerbo (2018:109) nie self ’n woordeboek nie, maar dit benut ’n onderliggende “woordeboek” om te funksioneer. Dié onderliggende “woordeboek” neem die vorm van ’n databasis aan, wat nie die som van leksikografiese kommunikasie met die gebruiker is nie, maar wel een van die voorbereidende komponente daartoe. In soverre as wat sodanige databasis primêr uit leksikale kommentaar en derhalwe uit ’n reeks masjienleesbare leksikografiese tekste bestaan, kan daar dus tegnies wel sprake wees van ’n “woordeboek”, maar binne die TLK word daarna verwys as ’n leksikografiese databasis. Die omvang van woordeboek word beperk tot ’n naslaanbron wat deur menslike gebruikers benut word.12

Gevolglik kan die begrip woordeboek soos volg gedefinieer word:

def12 ’n Woordeboek is ’n leksikografiese naslaanbron,

 

waar die afleiding leksikografiese die betekeniswaarde “wat primêr uit leksikografiese tekste bestaan” denoteer, na aanleiding van Wiegand (1996) se beskrywing van woordeboeke as draers van tekssoorte.

’n Woordeboek as megateks moet dus aan minstens twee vereistes voldoen: (i) Dit moet ’n naslaanbron wees, en (ii) dit moet primêr leksikografiese tekste bevat. Vereiste (i) veronderstel die verpligte teenwoordigheid van spesifieke tipes mega- en mikroteksstrukture, waaronder spesifieke tipes raam-, toegang-, makro-, meso-, mikro- en artikelstrukture, waar van toepassing (vgl. o.m. Gouws en Prinsloo 2005), terwyl vereiste (ii) veronderstel dat primêr leksikale kommentaar in die genoemde tekste geënkodeer word.

Kritiek teen def12 sou kon wees dat die soort(e) funksie, gebruiker en gebruikersituasie ten opsigte van ’n woordeboek nie in die formulering figureer nie (vgl. Bergenholtz 2012 se kritiek vanuit die funksieteorie teen bestaande definisies). Dit sou egter uit die oog verloor dat die begrip teks, as grondliggende begrip in def10 en def12, die konstitutiewe komponente van tekstualiteit omsluit, waarvan intensionaliteit, aanvaarbaarheid en kontekstualiteit die veranderlikes met betrekking tot die doel, gebruiker en gebruikersituasie volledig vervat.

 

4. Wanneer word ’n (woorde)lys ’n woordeboek?

In hierdie afdeling word die status van die Woordelys as woordeboek al dan nie uitgeklaar. Eerstens word die kommunikatiewe eienskappe van die prototipiese lys beskryf, waarna die Woordelys gesitueer word.

4.1 Die prototipiese lys

’n Lys kan beskryf word as tipies ’n tipografies vertikaal geordende versameling uitdrukkings waarvan elk se boodskap ’n referent identifiseer wat ’n bepaalde eienskap of eienskappe met ander verskynsels gemeen het, op grond waarvan diesulke verskynsels se identifiserende uitdrukkings mede-elemente van daardie versameling (die lys) is.

In byvoorbeeld ’n inkopielys enkodeer die uitdrukking \brood\ die boodskap b\brood\, wat soos volg voorgestel kan word:

Tabel 1. Die samestelling van boodskap b\brood\ in ’n gegewe inkopielys

b\brood\
Elemente Waardes
Ψ VERSOEK
p1 \brood\ is ’n element van die inkopielys.
p2 (Op grond van kontekstualiteit) \brood\ verwys na “een bruinbrood”.
p3 (Op grond van intensionaliteit) Die teikenleser koop een bruinbrood.

 

Proposisies p2 en p3 volg elk uit die voorafgaande proposisie, sodat (p1p2) → p3. Die implikasieverhoudings moet egter binne die konteks van die teks gedefinieer word. Dít gebeur deur die identifisering en beskrywing van die tersaaklike komponente van tekstualiteit as gronde vir die implikasieverhoudings, soos volg:

“(Op grond van kontekstualiteit)”: Kontekstualiteit verwys na “al daardie faktore wat ’n teks relevant maak in ’n bepaalde gebruiksgeval” (Carstens 1997:387). In die geval van die inkopielys kan minstens die volgende faktore geïdentifiseer word om die implikasieverhouding p1p2 te beskryf: (i) Die teksdeelnemers deel voldoende bevoegdheid in Afrikaans vir die Afrikaanse woord brood om suksesvol betekenis oor te dra. (ii) Vir die huishouding waarin die teks geproduseer is, word normaalweg nie meer as een brood op ’n slag gekoop nie. (iii) Bruinbrood word normaalweg in die betrokke huishouding benodig. (iv) Die onmiddellike konteks waarin die teks relevant is, is die inkopiesituasie.

“(Op grond van intensionaliteit)”: Intensionaliteit verwys na die teksproduseerder se kommunikatiewe doel met die teks (Carstens 1997). Die kernvraag is watter effek die teksproduseerder by die teksontvanger wil bewerkstellig. Intensionaliteit hang ten nouste saam met die kommunikatiewe handeling van die teks, asook byvoorbeeld Grice (1991) se samewerkingsbeginsel. In die geval van die inkopielys is die doel van die teks om die teikenleser te versoek om die items waarna verwys word te koop; daarom is dit byvoorbeeld onnodig om voor elke lysitem “Koop asseblief” in te voeg. Indien die teikenleser die inkopielys as sodanig aanvaar, sal funksionele kommunikasie plaasvind. Hierdie veranderlikes definieer die implikasieverhouding p2p3. Uiteraard hang intensionaliteit ook ten nouste saam met kontekstualiteit, soos die implikasieverhouding p1p2 aantoon.

Hierdie gedefinieerde implikasieverhoudings tussen die proposisies in b\brood\ sou aangedui kon word as (p1 konp2) intp3, met “kon” wat ’n gedefinieerde implikasieverhouding op grond van kontekstualiteit voorstel, en “int” ’n gedefinieerde implikasieverhouding op grond van intensionaliteit.

Volgens Carstens (1997:58) kan ’n aantal makroreëls aangewend word om “dit wat die belangrikste is van die inhoud van die teks” te omskryf. Een van hierdie reëls is die veralgemeningsreël, waarvolgens die proposisies van die teks se samestellende sinne (d.i. ’n stel mikroproposisies) tot ’n enkele makroproposisie afgelei kan word “wat op alle sinne van toepassing is” en wat as sodanig die semantiese eenheid van die teks beskryf (Carstens 1997:58). Soos reeds duidelik is, word proposisies vir die doel van hierdie studie uitgebrei tot boodskappe; insgelyks word semantiese eenheid uitgebrei tot kommunikatiewe eenheid. Deur die toepassing van die veralgemeningsreël kan die stel mikroboodskappe (soos b\brood\, b\koffie\, ens.) deur middel van eksistensiële veralgemening tot die minimale kommunikatiewe funksie van die prototipiese lyselement afgelei word om dié se kommunikatiewe eenheid te beskryf:

Tabel 2. Kommunikatiewe funksie van die prototipiese lyselement

Prototipiese lyselement
Elemente Waardes
Ψ Ψ
pf1 Uitdrukking x is ’n element van die lys.
kon*pf2 Uitdrukking x verwys na y.
int*pf3 Ten opsigte van y geld z.

 

Proposisionele funksie pf3 spesifiseer die kenmerk(e) z van y, op grond waarvan proposisionele funksie pf1 geld.13 Kenmerk(e) z sal identies wees vir elke referent y waarvan uitdrukking x ’n element van ’n gegewe lys is. Die kommunikatiewe handeling Ψ is ongespesifiseer, aangesien dit van lys tot lys kan wissel. Om dieselfde rede is die gronde van die implikasieverhoudings “kon*→” en “int*→” weliswaar geïdentifiseer, maar nie beskryf nie. (Serobeskrywing word telkens deur ’n asterisk aangedui.) Die identiteit van die verhoudings, as onderskeidelik gegrond op kontekstualiteit en intensionaliteit, is egter voorspelbaar.14

Gevolglik kan die makrokommunikatiewe funksie vir die prototipiese lys MaKf(Lys) deur middel van die veralgemeningsreël afgelei en soos volg uitgedruk word:

MaKf(Lys) = Vir die referente van alle lyselemente geld kenmerk(e) z.

4.2 Die Woordelys

Met die voorafgaande duidelik-gedefinieerde stel terme/begrippe is dit ’n relatief eenvoudige taak om formeel te bewys dat die Woordelys wel ’n woordeboek is. Vergelyk die volgende minimale Woordelys-artikel (AWS11 2017:460):

wa3 polo

 

Die elemente van die boodskap wat deur wa3 enkodeer word, word in Tabel 3 hier onder aangebied, met die toepaslike element van die maatstaf T = {E, P, Q} naas elke proposisie aangedui:

Tabel 3. Die samestelling van bwa3 en die assessering van die proposisies daarin as elemente m.b.t. die maatstaf T = {E, P, Q}

bwa3 T-element
Elemente Waardes
Ψ $
p1 Vorm \polo\ is ’n element van die makrostruktuur. E
konp2 \polo\ verwys na die woord [po'lu]. E
intp3 [po'lu] behoort tot die Standaardafrikaanse leksikon. E
& p4 [po'lu] se korrekte ortografie in Standaardafrikaans is "polo" (d.w.s. die vorm \polo\). P

 

Die toepassing van die maatstaf assesseer E = {p1, p2, p3}, P = {p4}, en Q = {Ø}. Die gevolgtrekking is dat wa3 ’n leksikografiese teks is, en meer spesifiek ’n sterk leksikogram.

Die implikasieverhoudings tussen die onderskeie proposisies kan liniêr voorgestel word as (p1 konp2) int→ (p3 & p4). Die geïdentifiseerde gronde van die verhoudings kan soos volg beskryf word:

Kontekstualiteit (kon): Binne die gebruiksituasie weet die teksdeelnemers dat die elemente van die makrostruktuur in Afrikaans aangebied word en beskik hulle oor die bevoegdheid en gewilligheid om daardie elemente as Afrikaanse vorme te herken, asook dat elke vorm na ’n leksikonelement verwys (en byvoorbeeld nie na ’n deiktiese referent nie).

Intensionaliteit (int): Indien die (voorlopige) doelstellings van die Woordelys, soos in (3) in afdeling 2.1 uiteengesit, aan die teksdeelnemers bekend en aanvaarbaar is, kan aanvaar word dat p3 en p4 waar is.

Aangesien wa3 ’n minimale Woordelys-artikel is, kan bwa3 deur middel van veralgemening tot die volgende kommunikatiewe funksie vir die minimale Woordelys-artikel afgelei word:

Tabel 4. Kommunikatiewe funksie van die minimale Woordelys-artikel

Minimale Woordelys-artikel
Elemente Waardes
Ψ $
pf1 Vorm x is ’n element van die makrostruktuur.
konpf2 Vorm x verwys na die leksikonelement y.
intpf3 Leksikonelement y behoort tot die Standaardafrikaanse leksikon.
& pf4 Leksikonelement y se korrekte ortografie in Standaardafrikaans is die vorm x.

 

Gevolglik kan die makrokommunikatiewe funksie vir die Woordelys soos volg geformuleer word:

MaKf(Woordelys) = Alle vorme (lemmatekens) verteenwoordig Standaardafrikaanse leksikonitems en hulle korrekte ortografie in Standaardafrikaans.

Aangesien die bykomende proposisies in uitgebreide Woordelys-artikels primêr leksikografiese proposisies is, volg dit dat alle Woordelys-artikels leksikografiese tekste is. Daarby vertoon die makrostruktuur van die Woordelys ’n streng vertikaal alfabetiese ordening, wat as toegangstruktuur dien, omdat dit ’n naslaanbron is. (In die e-weergawe van die Woordelys geld ’n bepaalde toegangsroete in plaas van ’n makrostruktuur.)

Die Woordelys is dus ’n naslaanbron wat uit ’n reeks leksikografiese tekste in die vorm van Woordelys-artikels bestaan. Daarom is die Woordelys ’n woordeboek.

Indien bwa3 nié p4 sou bevat nie, sou wa3 nie ’n leksikografiese teks wees nie, omdat P = {Ø}. Indien wa3 sonder p4 verder alle Woordelys-artikels sou verteenwoordig, sou p3 ’n instansie wees van pf3 in die prototipiese lyselement (vgl. Tabel 2); gevolglik sou die Woordelys inderdaad bloot ’n woordelys wees, en nie as ’n woordeboek gekarakteriseer kon word nie (ten spyte van die feit dat p1 tot p3 leksikale kommentaar enkodeer – vgl. 3.2.3.2).

 

5. Perspektief en gevolgtrekking

5.1 Woordeboeke en leksikografie

Daar kan geredeneer word dat om leksikografie as die studie, beplanning en saamstel van woordeboeke te definieer, dieselfde sou wees as om joernalistiek as die studie, saamstel en uitgee van koerante te definieer. Dat die koerantwese ’n onmiskenbare en onontbeerlike komponent van die joernalistiek behels, ly geen twyfel nie, maar joernalistiek is nie gelyk te stel aan koerantwese nie. Koerante is maar een tekstipe waardeur die joernalistiek beoefen word. Saakmakende aspekte van die eksistensiële krisis waarin die leksikografie hom volgens Tarp (2019) bevind, kan te wyte wees aan die feit dat leksikografie uitsluitlik gedefinieer word in terme van die tekstipe wat die tradisionele produk van die praktiese leksikografie verteenwoordig, en nie in terme van die kernaktiwiteit wat daardeur veronderstel word nie. Dat die woordeboekbedryf ’n onmiskenbare en onontbeerlike komponent van die leksikografie behels, ly geen twyfel nie, maar leksikografie kan nie langer as (bloot) sinoniem met woordeboekbedryf beskou word nie.

Om leksikografie as die studie, beplanning en saamstel van leksikale kommentaar te definieer, mag op die oog af dun lyk. Teen die agtergrond van die groter proses van leksikografiese kommunikasie binne die TLK veronderstel dié definisie egter ’n onderskeibare maar onskeibare faset, naamlik dat die saamstel van leksikale kommentaar op die skepping van teks uitloop. Dié begrip veronderstel al die konstitutiewe komponente van tekstualiteit, naamlik kohesie, koherensie, intensionaliteit, aanvaarbaarheid, informatiwiteit, kontekstualiteit en intertekstualiteit, en dit is die veranderlikes wat met elkeen van hierdie komponente uit eie reg en gesamentlik verband hou wat uiteindelik bepaal in watter soort teks, omvang en vorm leksikale kommentaar geënkodeer word.

5.2 Die Woordelys as woordeboek

Indien ’n leksikografiese teks ’n element van ’n woordeboek is – soos wat die geval is met elke Woordelys-artikel – dan enkodeer die lemmateken as makrostruktuurelement die reeks leksikografiese proposisies E. Die mikrostruktuurelemente enkodeer die reeks leksikografiese proposisies P en nieleksikografiese proposisies Q, waar van toepassing. In die geval van die Woordelys is dit duidelik dat die minimale artikel in die oppervlakteks uit slegs ’n lemmateken bestaan, soos in wa3. Dit kan ten onregte die indruk skep dat sodanige artikel nie ’n mikrostruktuur het nie (wat inderdaad vir ’n prototipiese lys sou geld). Volgens Gouws (1989:75) het lemmata ’n dubbele rol deurdat hulle as makro- én mikrostruktuurelemente optree. Van Huyssteen (2017:332) bevestig dat die lemma in ’n ortografiese woordeboek die toegangselement tot ortografiese kommentaar én die kommentaar self is: “In ’n ortografiewoordeboek bevat die lemma sélf die inligting waarna die gebruiker primêr soek […]” Die lemmateken \polo\ gee uitdrukking aan E sowel as P, en dien daarom ook as uitdrukking van die volledige mikrostrukturele inhoud van wa3. In alle minimale Woordelys-artikels is daar dus ’n volledige oorvleueling van die makrostruktuur en die mikrostruktuur.

Bosman e.a. (2017:297) ondersteun soos volg die mening dat die Woordelys as ’n soort woordeboek beskou kan word:

Die woordelys verskil byvoorbeeld van ’n vertalende of verklarende woordeboek wat betref die aantal lemmas (met ander woorde wat omvang en volledigheid betref) en die afwesigheid van ’n konsekwente mikrostruktuur. Tog bied al die woordelyste vanaf 1917 wel in beperkte mate leksikografiese leiding en soos ander woordeboeke is hulle inligtingsbronne.

Reeds in 1917 gee die Woordelys morfologiese inligting, woordsoorte word in sommige gevalle aangedui, betekenisleiding word soms gegee en daar is ook hier en daar kollokasies […].

Hoewel die makrostruktuur van die Woordelys relatief tot dié van ’n standaard- vertalende of verklarende woordeboek in omvang beperk is, bepaal dié kenmerk nié of die Woordelys minder of meer ’n woordeboek is nie. Verder blyk dit uit die voorgaande bespreking dat die Woordelys tog ’n mikrostruktuur vertoon wat nie minder konsekwent is as dié van ’n vertalende of verklarende woordeboek nie: In ’n vertalende woordeboek word in die reël minstens een vertaalekwivalent vir elke lemma in die mikrostruktuur aangebied; in ’n verklarende woordeboek word insgelyks minstens een betekenisparafrase vir elke lemma in die mikrostruktuur aangebied; in die Woordelys word minstens die ortografiese vorm as die korrekte Standaardafrikaans-vorm vir elke lemma in die mikrostruktuur aangebied. Die bykomende leksikale kommentaar oor woordklas en betekeniswaardes, wat soms in die Woordelys gegee word, verskil nie van leksikale kommentaar in die vorm van byvoorbeeld glosse en vertaalkomplemente in vertalende woordeboeke (vgl. Beyer 2013) nie, wat (minstens in Afrikaanse vertalende woordeboeke) ook nie konsekwent aangebied word nie. Hoewel aangevoer sou kon word dat die Woordelys relatief tot vertalende of verklarende woordeboeke beperkte leksikale kommentaar lewer, is dié kommentaar nié beperk ten opsigte van die leksikografiese waarde van die Woordelys uit eie reg nie; inteendeel, in terme van die primêre doelstellings daarvan, soos voorlopig in (3) in afdeling 2.1 geïdentifiseer, lewer ’n geskikte minimale Woordelys-artikel maksimale leksikale kommentaar.

Gemeet aan die maatstaf T = {E, P, Q}, wat bevestig dat die Woordelys-artikels leksikografiese tekste is, plus die feit dat die Woordelys ’n naslaanbron is, bestaan daar binne die TLK geen twyfel dat die Woordelys wel ’n woordeboek is nie. As sodanig word daar met Bosman e.a. (2017) en Taljard e.a. (2017) saamgestem dat die Woordelys as ’n ortografiese woordeboek beskou kan word, ten minste binne Gouws en Prinsloo (2005) se woordeboektipologie. (Werk aan ’n TLK-woordeboektipologie is aan die gang.) Die status van die Woordelys as woordeboek word binne die TLK egter nie bepaal deur die mate waartoe die Woordelys met vertalende of verklarende woordeboeke ooreenstem nie (d.w.s. nié in terme van die vergelyking in (4) in afdeling 2.1 nie), maar deur die onafhanklike tekstuele kriteria wat in hierdie artikel beskryf is.

Die klassifikasie van die volledige AWS as ’n woordeboek kan vanuit die TLK egter as minder akkuraat bestempel word: Hoewel die ander primêre komponent van die AWS, naamlik die “Spelreëls”, ook onmiskenbaar ’n naslaanbron is, voldoen die onderskeibare tekste daarin nie aan die maatstaf T = {E, P, Q} nie. In die “Spelreëls”-komponent is die vertrekpunt bepaalde grammatiese, ortografiese en taalgebruikskategorieë, eerder as bepaalde leksikonelemente.

Soos in afdeling 2.2 gemeld, klassifiseer Van Huyssteen (2017:327) die AWS (op grond van Zgusta (1971) se woordeboektipologie) as “’n beperkte, eentalige, sinchroniese, linguisties-ensiklopediese naslaanbron”. Daar is reeds hier bo kommentaar gelewer op die problematiek wat met die toekenning van die eienskap “beperk” gepaard gaan. Die kenmerke “eentalig” en “sinchronies” word as onproblematies beskou en daar gelaat. Van Huyssteen (2017:328) motiveer die kenmerk “ensiklopedies” soos volg:

Benewens die alfabetiese Woordelys, bevat die AWS ook ensiklopediese inligting, waarvan die spelreëls en die bylaes die belangrikste is. Die spelreëls is weliswaar linguistiese inligting, maar dit word op ensiklopediese wyse aangebied (tipies alfabeties gerangskik volgens die aspekte van die ortografie, maar met besprekings, kommentaar, opmerkings, voorbeelde, uitsonderings, en so meer).

Die kern van die motivering vir die kenmerk “ensiklopedies” ten opsigte van die “Spelreëls” hoort na regte tuis by die motivering vir die kenmerk “naslaanbron”. Die proposisionele inhoud (besprekings, kommentaar, opmerkings, voorbeelde, uitsonderings, ens.) is bepaald taalkundig van aard en nie ensiklopedies nie. ’n Aantal bylaes word ook as ensiklopediese bronne beskou op grond daarvan dat die eksterne toegangstruktuur anders sou wees as dié van ’n “tradisionele” woordeboek:

Die ensiklopediese aard van sommige van hierdie inligting blyk onder andere uit die organisasie daarvan: Die bylae met plekname uit die Ooste is byvoorbeeld nie alfabeties gerangskik soos wat ’n mens in ’n tradisionele (linguistiese) woordeboek sou verwag nie, maar volgens land, provinsie/streek, ensovoorts. (Van Huyssteen 2017:328)

Die definisie van naslaanbron (def10), as grondliggende term vir die begrip woordeboek, stel dit dat die tekste in ’n naslaanbron sistematies georganiseer is ten einde ’n eksterne toegangstruktuur daar te stel. Alfabetiese ordening is een soort sistematiese organisasiebeginsel, maar nie die enigste een nie. ’n Tematiese organisasiebeginsel kan ewenwel die doelstellings van ’n bepaalde naslaanbron – en ook van ’n woordeboek – ondersteun; vergelyk die toegangstruktuur van die Tesourus van Afrikaans (De Stadler en De Stadler 2021). In die “Oriëntasie” tot die bylae “E. Lys geografiese name in die Ooste” (AWS11 2017:675) word die doel van die bylae soos volg beskryf: “In hierdie bylae verskyn ’n aantal geografiese eiename in Indië, Japan en China om as voorbeelde te dien van transliterasie vanuit Oosterse tale na Afrikaans.” Uiteraard word die Standaardafrikaans-ortografie van die getranslitereerde vorme aangebied, en in die grootste gedeelte van die bylae word ook leksikale kommentaar oor uitspraak deur middel van fonetiese transkripsies gelewer. Die bylae is kennelik ’n naslaanbron (afgesien van die kort afdeling oor Indië, waarin geen eksterne toegangstruktuur herkenbaar is nie) en elke element daarvan voldoen aan die maatstaf T = {E, P, Q}. Gevolglik word hierdie bylae binne die TLK ook as ’n woordeboek beskou, hoewel dit een is wat enigsins meer ensiklopediese kommentaar bevat as die Woordelys. Die feit dat die uitdrukkings in tabelvorm aangebied word, doen nie afbreuk aan die kommunikatiewe funksie en derhalwe die leksikografiese aard van die teks nie. Vergelyk The Greater Dictionary of Xhosa (Pahl 1989) en Lombard (1990) se metaleksikografiese model vir ’n Afrikaanse skoolwoordeboek, waarin elemente van die mikrostruktuur ook in tabelvorm (weliswaar ongeraam) aangebied word. ’n Aantal ander bylaes in die AWS geld insgelyks as woordeboeke. Hierop word egter nie verder ingegaan nie, aangesien hierdie studie op die Woordelys fokus. AWS11 bevat dus meer woordeboeke as wat op die oog af mag voorkom, maar die substansiële “Spelreëls” van 244 bladsye is nie een van hulle nie; daarom is dit nie sinvol om die hele AWS as ’n woordeboek te klassifiseer nie. Dit is nou ook reeds duidelik dat daar wesenlike probleme bestaan met die klassifikasie van ’n naslaanbron as woordeboek al dan nie op grond van die vergelyking daarvan met standaard- verklarende (of vertalende) woordeboeke.

Die AWS kan benader word in terme van ’n teksboekstruktuur (vgl. Gouws en Prinsloo 2005:57–65), waarvolgens die volledige werk beskou word as ’n megateks wat bestaan uit twee sentrale makrotekste, te wete die “Spelreëls” en die Woordelys, asook ’n versameling buitetekste, naamlik die elemente van die “Voorwerk” (AWS11 2017, inhoudsopgawe) as voortekste en die bylaes as agtertekste. Teen die agtergrond van die AWS se doelstellings kan dit dan binne die TLK geklassifiseer word as ’n eentalige, sinchroniese, standaard- ortografiese naslaanbron. Dit is dus nié ’n beperkte naslaanbron (omdat dit in omvang beperkter as ’n standaard- (of omvattende) verklarende woordeboek is) nie, maar ’n standaardnaslaanbron, omdat dit primêr (d.i. in die sentrale makrotekste, maar ook in die meeste buitetekste, m.a.w. proposisioneel dominerend) ortografiese kommentaar oor ’n standaardvariëteit bied. Die mate waartoe die omvang van die standaardvariëteit daarin verteenwoordig word, sou wel uitgedruk kon word in ’n gekwalifiseerde beskrywing soos beperkte (of beknopte) standaard- ortografiese naslaanbron, indien dit nuttig sou wees.

As een van die sentrale makrotekste in die AWS kan die Woordelys gevolglik geklassifiseer word as ’n eentalige, sinchroniese, standaard- ortografiese woordeboek.

 

6. Slot en vooruitskouing

In woordeboeknavorsing word die status van ’n naslaanbron as woordeboek al dan nie, asook die tipologiese plasing van woordeboeke, dikwels bepaal deur ’n prototipe-gebaseerde kategorisering, met die (gedrukte) standaard- of omvattende verklarende (en moontlik vertalende) woordeboek in die duidelike sentrum (vgl. (4), afdeling 2.1). Naslaanbronne wat inhoudelik, maar veral teksstruktureel, verskil van die eksemplare in die sentrum word êrens in ’n min of meer radiale netwerk tussen die sentrum en ’n nondiskrete, konsentriese rand geplaas na gelang van die graad van sodanige verskil. (Vgl. Geeraerts 2010:183–203 oor die prototipemodel van kategoriestruktuur in die kognitiewe semantiek.) Die rede vir hierdie soort benadering is (ironies genoeg) waarskynlik te vinde in tot nog toe grootliks ontoereikende definisies van sentrale terme soos leksikografie en woordeboek, wat nie noodwendig bevorderlik is vir ’n dissipline wat aanspraak maak op ’n wetenskaplike basis nie. In hierdie bydrae is probeer om vanuit die TLK vorendag te kom met definisies van hierdie terme wat die identifikasie en beskrywing van woordeboeke en ander media van leksikografiese kommunikasie op ’n duideliker en hopelik meer wetenskaplike grondslag plaas: Dit gaan naamlik oor die objektiewe toepassing van ’n stel eenduidige tekstuele (en dus kommunikatiewe) kriteria, wat weliswaar ook relatiewe, maar dan steeds bepalende waardes kan aanneem, in plaas van die relativering van alle betrokke verskynsels tot ’n aksiomatiese prototipe.

Aan die hand van die voorgestelde terme, waardeur die TLK uitgebou word, is bewys dat die Woordelys in die AWS as ’n woordeboek geld, ondanks hoe dit deur generasies Taalkommissielede beskou en bewerk is, of deur die gewone taalgebruiker benader word.

In die tweede bydrae in hierdie artikelreeks word die kommunikatiewe funksies van die Woordelys in terme van ’n leksikografiese teksgrammatika en die konstitutiewe komponente van tekstualiteit uit die tekslinguistiek bespreek, waarna die regulerende komponente van tekstualiteit as raamwerk sal geld vir ’n metaleksikografiese evaluering van die Woordelys in die derde bydrae.

 

Bibliografie

Allwood, J., L. Andersson en Ö. Dahl. 1977. Logic in linguistics. Cambridge: Cambridge University Press.

Atkins, B.T.S. en M. Rundell. 2008. The Oxford guide to practical lexicography. Oxford: Oxford University Press.

Austin, J.L. 1975. How to do things with words. Tweede uitgawe. Cambridge, Massachusetts: Harvard University Press.

AWS7. 1964. Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Afrikaanse woordelys en spelreëls. Sewende, verbeterde uitgawe. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

AWS8. 1991. Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Afrikaanse woordelys en spelreëls. Agste, verbeterde uitgawe. Kaapstad: Tafelberg.

AWS9. 2002. Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Afrikaanse woordelys en spelreëls. Negende, verbeterde en omvattend herbewerkte uitgawe. Kaapstad: Pharos.

AWS10. 2009. Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Afrikaanse woordelys en spelreëls. Tiende, verbeterde en omvattend herbewerkte uitgawe. Kaapstad: Pharos.

AWS11. 2017. Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 2017. Afrikaanse woordelys en spelreëls. Elfde, verbeterde en omvattend herbewerkte uitgawe. Kaapstad: Pharos.

Bergenholtz, H. 2012. What is a dictionary? Lexikos, 22:20–30. https://lexikos.journals.ac.za/pub/article/view/995 (21 Oktober 2020 geraadpleeg).

Bergenholtz, H. en H. Agerbo. 2018. A typology of lexicographical tools based on information needs and user types. Lexicography, 5:97–121.

Bergenholtz, H. en R.H. Gouws. 2012. What is lexicography? Lexikos, 22:31–42. https://lexikos.journals.ac.za/pub/article/view/996 (21 Oktober 2020 geraadpleeg).

Bergenholtz, H. en S. Tarp. 2003. Two opposing theories: On H.E. Wiegand’s recent discovery of lexicographic functions. Hermes, Journal of Linguistics, 31:171–96.

Beyer, H.L. 2006. ’n Voorlopige model vir die sistematiese beskrywing van gebruikersvriendelikheid in woordeboeke. Lexikos, 16:46–66. https://lexikos.journals.ac.za/pub/article/view/647 (21 Oktober 2020 geraadpleeg).

—. 2013. Glosse en vertaalkomplemente in tweetalige woordeboeke. In Botha, Mavoungou en Nkomo (reds.) 2013.

—. 2014. Explaining dysfunctional effects of lexicographical communication. Lexikos, 24:36–74. https://lexikos.journals.ac.za/pub/article/view/1252 (21 Oktober 2020 geraadpleeg).

—. 2018. On recent proposals to abolish polysemy and homonymy in lexicography. Lexikos, 28:1–31. https://lexikos.journals.ac.za/pub/article/view/1456 (21 Oktober 2020 geraadpleeg).

Beyer, H.L. en J. Augart. 2017. From user questions to a basic microstructure: Developing a generative communication theory for a Namibian German dictionary. Journal for Studies in Humanities and Social Sciences, 6(2):1–31.

Beyer, H.L. en A.K. Faul. 2010. Namibian university entrants’ concepts of “a dictionary”. Lexikos, 20:644–79. https://lexikos.journals.ac.za/pub/article/view/160 (21 Oktober 2020 geraadpleeg).

Bock, Z. 2014a. Approaches to communication. In Bock en Mheta (reds.) 2014.

—. 2014b. Communication in context. In Bock en Mheta (reds.) 2014.

Bock, Z. en G. Mheta (reds.). 2014. Language, society and communication: an introduction. Pretoria: Van Schaik.

Bosman, N., E. Taljard en D. Prinsloo. 2017. Honderd jaar Afrikaanse woordelys en spelreëls – ’n oorsig en waardering. Deel 1: Die woordelys. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(2-1):285–301. http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512017000200005&lng=en&nrm=iso&tlng=af (21 Oktober 2020 geraadpleeg).

Botha, W.P., P. Mavoungou en D. Nkomo (reds.). 2013. Festschrift Rufus H. Gouws. Stellenbosch: SUN PReSS.

Carstens, W.A.M. 1997. Afrikaanse tekslinguistiek: ’n inleiding. Pretoria: Van Schaik.

Carstens, W.A.M. en N. Bosman (reds.). 2017. Kontemporêre Afrikaanse taalkunde. Tweede uitgawe. Pretoria: Van Schaik.

Chandler, D. 2007. Semiotics. The basics. Tweede uitgawe. Oxford: Routledge.

Cobley, P. (red.). 2006. Communication theories. Critical concepts in media and cultural studies. Volume I. Londen, New York: Routledge.

Collins Online Dictionary. 2020. https://www.collinsdictionary.com (6 Oktober 2020 geraadpleeg).

Cruse, A. 2000. Meaning in language. An introduction to semantics and pragmatics. Oxford: Oxford University Press.

De Beaugrande, R. en W. Dressler. 1981. Introduction to text linguistics. Londen, New York: Longman.

De Saussure, F. 2013. Course in general linguistics. Vertaal en geannoteer deur R. Harris. Londen, New York: Bloomsbury Academic.

De Stadler, L.G. 1989. Afrikaanse semantiek. Johannesburg: Southern.

De Stadler, L.G. en A. de Stadler. 2021. Tesourus van Afrikaans. Tweede uitgawe. Kaapstad: Pharos.

Fuertes-Olivera, P. (red.). The Routledge handbook of lexicography. Londen: Routledge.

Geeraerts, D. 2010. Theories of lexical semantics. Oxford: Oxford University Press.

Gouws, R.H. 1989. Leksikografie. Pretoria, Kaapstad: Academica.

—. 2012. Who can really be called a lexicographer? Lexikos, 22:217–225. https://lexikos.journals.ac.za/pub/article/view/1004 (21 Oktober 2020 geraadpleeg).

—. 2017. Leksikografie. In Carstens en Bosman (reds.) 2017.

Gouws, R.H. en D.J. Prinsloo. 2005. Principles and practice of South African lexicography. Stellenbosch: SUN PReSS.

Gouws, R.H., U. Heid, W. Schweickard en H.E. Wiegand (reds.). 2013. Dictionaries. An international encyclopedia of lexicography. Supplementary volume: Recent developments with focus on electronic and computational lexicography. Berlyn: De Gruyter Mouton.

Grice, P. 1991. Studies in the way of words. Cambridge, Massachusetts: Harvard University Press.

Hartmann, R.R.K. (red.). 1984. LEXeter ’83 proceedings. Papers from the International Conference on Lexicography in Exeter, 9–12 September 1983. Tübingen: Max Niemeyer.

Hausmann, F.J., O. Reichmann, H.E. Wiegand en L. Zgusta (reds.). 1989–1991. Wörterbücher. Dictionaries. Dictionnaires. Ein internationales Handbuch zur Lexikographie. An international encyclopedia of lexicography. Encyclopédie internationale de lexikographie. Berlyn, New York: Walter de Gruyter.

Kempson, R.M. 1977. Semantic theory. Cambridge: Cambridge University Press.

Kühn, P. 1989. Typologie der Wörterbücher nach Benutzungsmöglichkeiten. In Hausmann, Reichmann, Wiegand en Zgusta (reds.) 1989–1991.

Labuschagne, F.J. en L.C. Eksteen. 2010. Verklarende Afrikaanse woordeboek. Negende, hersiene uitgawe. Kaapstad: Pharos.

Lee, S. 2017. Logic. A complete introduction. Londen: Hodder & Stoughton.

Lombard, F.J. 1990. ’n Metaleksikografiese fundering van Afrikaanse skoolwoordeboeke. DLitt-proefskrif, Universiteit Stellenbosch.

Luther, J., F. Pheiffer en R.H. Gouws. (reds.). 2015. Handwoordeboek van die Afrikaanse taal. Sesde uitgawe. Kaapstad: Pearson.

Lyons, J. 1977. Semantics. Volume 1. Cambridge: Cambridge University Press.

Nederlands woordenboek. https://www.woorden.org. (9 Oktober 2020 geraadpleeg).

Odendaal, B.G. 2012. Die herstandaardisering van Afrikaans: ’n praktiese benadering met die AWS as gevallestudie. PhD-proefskrif, Universiteit Stellenbosch. http://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/71820 (21 Oktober 2020 geraadpleeg).

—. 2016. Die rol van die US se Departement Afrikaans en Nederlands in die ontwikkeling van die Afrikaanse leksikografie: Die Nederlands-Afrikaans-stryd gedurende die aanvangsjare. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(1):257–76. http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512016000100016&lng=en&nrm=iso&tlng=af (21 Oktober 2020 geraadpleeg).

Otto, A.N. en E. Boekkooi. 2020. Die herkoms van ’n aantal Afrikaanse uitdrukkings wat verband hou met die see. LitNet Akademies, 17(2):113–51. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2020/09/LitNet_Akademies_17-2_Otto-Boekkooi_113-151.pdf.

Pahl, H.W. (hoofred.). 1989. The greater dictionary of Xhosa. Volume 3. Alice: University of Fort Hare.

Partee, B.H., A. ter Meulen en R.E. Wall. 1993. Mathematical methods in linguistics. Studies in linguistics and philosophy 30. Dordrecht, Boston, Londen: Kluwer Academic.

Schramm, W. 1954. How communication works. In Schramm (red.) 1954.

Schramm, W. (red.). 1954. The process and effects of communication. Urbana, Illinois: University of Illinois Press.

Searle, J.R. 1969. Speech acts. An essay in the philosophy of language. Cambridge: Cambridge University Press.

Sebeok, T.A. 2006. Communication. In Cobley (red.) 2006.

Shannon, C.E. en W. Weaver. 1949. The mathematical theory of communication. Urbana, Illinois: University of Illinois Press.

Simpson, J.A. en E.S.C. Weiner. 1989. The Oxford English dictionary. Tweede uitgawe. Deel VIII. Oxford: Clarendon Press.

Swanepoel, P.H. 2015. The design of morphological/linguistic data in L1 and L2 monolingual, explanatory dictionaries: A functional and/or linguistic approach? Lexikos, 25:353–86. https://lexikos.journals.ac.za/pub/article/view/1303 (21 Oktober 2020 geraadpleeg).

Taljard, E., D. Prinsloo en N. Bosman. 2017. Honderd jaar Afrikaanse woordelys en spelreëls – ’n oorsig en waardering. Deel 2: Die gebruiker in fokus. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(2-1):302–22. http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512017000200006&lng=en&nrm=iso&tlng=af (21 Oktober 2020 geraadpleeg).

Tarp, S. 2008. Lexicography in the borderland between knowledge and non-knowledge. General lexicographical theory with particular focus on learner’s lexicography. Lexicographica Series Maior, 134. Tübingen: Max Niemeyer.

—. 2013. Lexicographic functions. In Gouws, Heid, Schweickard en Wiegand (reds.) 2013.

—. 2018. The concept of dictionary. In Fuertes-Olivera (red.) 2018.

—. 2019. Connecting the dots: Tradition and disruption in lexicography. Lexikos, 29:224–49. https://lexikos.journals.ac.za/pub/article/view/1519 (21 Oktober 2020 geraadpleeg).

Tarp, S. en R. Gouws. 2019. Lexicographical contextualization and personalization: A new perspective. Lexikos, 29:250–68. https://lexikos.journals.ac.za/pub/article/view/1520 (21 Oktober 2020 geraadpleeg).

Van Huyssteen, G.B. 2017. Die aard, doel en omvang van die Afrikaanse woordelys en spelreëls. Deel 1. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(2-1):323–45. http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512017000200007&lng=en&nrm=iso&tlng=af (21 Oktober 2020 geraadpleeg).

Van Niekerk, A. en J. Olivier. 2017. Pragmatiek. In Carstens en Bosman (reds.) 2017.

Van Rensburg, C. 2017. Ná honderd jaar: Die Afrikaans van die eerste taalkommissie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(2-1):249–70. http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512017000200003&lng=en&nrm=iso&tlng=af (21 Oktober 2020 geraadpleeg).

Van Schalkwyk, D.J. (hoofred.). 1994. Woordeboek van die Afrikaanse taal. Deel IX. Stellenbosch: Buro van die WAT.

Van Sterkenburg, P. 2003. “The” dictionary: Definition and history. In Van Sterkenburg (red.) 2003.

Van Sterkenburg, P. (red.). 2003. A practical guide to lexicography. Amsterdam, Philadelphia: John Benjamins,

Wiegand, H.E. 1984. On the structure and contents of a general theory of lexicography. In Hartmann (red.) 1984.

—. 1987. Zur handlungstheoretischen Grundlegung der Wörterbuchbenutzungsforschung. Lexicographica, International Annual of Lexicography, 3:178–227.

—. 1989. Der gegenwärtige Status der Lexikographie. Hausmann, Reichmann, Wiegand en Zgusta (reds.) 1989–1991.

—. 1990. Printed dictionaries and their parts as texts. An overview of more recent research as an introduction. Lexicographica, International Annual of Lexicography, 6:1–126.

—. 1996. A theory of lexicographic texts: An overview. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde, 14(4):134–149.

—. 1996a. Textual condensation in printed dictionaries. A theoretical draft. Lexikos, 6:133–58. https://lexikos.journals.ac.za/pub/article/view/1029 (21 Oktober 2020 geraadpleeg).

Wiegand, H.E. en R.H. Gouws. 2013. Addressing and addressing structures in printed dictionaries. In Gouws, Heid, Schweickard en Wiegand (reds.) 2013.

Yong, H. en J. Peng. 2007. Bilingual lexicography from a communicative perspective. Amsterdam, Philadelphia: John Benjamins.

Zgusta, L. 1971. Manual of lexicography. Den Haag: Mouton.

—. 1973. Lexicology: Generating words. Annals of the New York Academy of Sciences, 211(1):14–20. https://nyaspubs.onlinelibrary.wiley.com/doi/abs/10.1111/j.1749-6632.1973.tb49460.x (6 April 2021 geraadpleeg).

 

Eindnotas

1 Hier kan wel genoem word dat ek, as lid van die Taalkommissie tydens die voorbereiding van AWS11, verantwoordelik was vir die konseptualisering van die Gebruikersgids, wat binne die raamwerk van die teorie van leksikografiese kommunikasie (TLK) gedoen is. Die formulering in (6) spruit direk voort uit die TLK se perspektief op die begrippe leksikografie en woordeboek, soos wat in afdeling 3 verduidelik word.

2 Vergelyk o.m. Handwoordeboek van die Afrikaanse taal (Luther, Pheiffer en Gouws 2015:726) en Woordeboek van die Afrikaanse taal (Van Schalkwyk 1994:195), Collins Online Dictionary (2020) en The Oxford English Dictionary (Simpson en Weiner 1989:876) m.b.t. lexicography, en Nederlands woordenboek (2020) m.b.t. lexicografie.

3 Daar is wel minstens een woordeboek wat ’n verdere betekeniswaarde suggereer, naamlik Verklarende Afrikaanse woordeboek (Labuschagne en Eksteen 2010:630), waarin die hooflemma leksikografies deur die volgende betekenisparafrases verklaar word: “Wat op ’n woordeboek betrekking het; soos in ’n woordeboek”.

4 Data/inligting is abstrak en bestaan nie sonder kognisie nie; dit is wesenlik betekenis wat (as data) neerslag vind deur proposisies wat in uitdrukkings enkodeer word, en word deur die dekodering van uitdrukkings tot proposisies (as inligting) herwin. ’n Logiese afleiding is dan dat ’n spesifieke tipe data (bv. leksikale data) – omdat dit betekenis is – nie noodwendig tot ’n spesifieke tipe teks beperk hoef te wees nie, maar eerder tot spesifieke tipes proposisies, in watter tipes tekste hulle ook al tot uitdrukking mag kom.

5 In Beyer (2014, 2018) en Beyer en Augart (2017) word die term uiting gebruik. Hier word die taalwetenskaplik en semioties presieser uitdrukking verkies.

6 Dit is nie die enigste kommunikatiewe funksie wat die uitdrukking \ge-\ instansieer nie. Volgens die Gebruikersgids moet die gebruiker ook daaruit aflei dat dit volg dat die voorafgaande uitdrukking ’n werkwoordvorm verteenwoordig (AWS11:xxviii). Vergelyk die tweede bydrae in hierdie artikelreeks.

7 |K| > 1 lees “Die kardinaliteit van (d.w.s. die aantal elemente in) versameling K is groter as 1.”

8 Die feit dat die wese van ’n leksikografiese teks hier in terme van proposisies en nie uitdrukkings nie beskryf word, hou direk verband daarmee dat uitdrukkings morfologies en semanties kompleks kan wees en dus nie altyd slegs óf leksikografiese óf nieleksikografiese proposisies enkodeer nie. Die kommunikatiewe inhoud en intensionaliteit van ’n teks word deur die uitdrukking-geënkodeerde en -gedekodeerde boodskappe (d.w.s. betekenis) bepaal en nie deur die uitdrukkings self nie. Meer hieroor in die tweede bydrae.

9 ’n Gegewe teks kan uiteenlopende eienskappe in terme van die verskillende konstitutiewe komponente van tekstualiteit vertoon. Sinvolle teksklassifikasie en -evaluering berus in ’n groot mate op die toepassing van die begrip dominansie van bepaalde eienskappe op die verskillende vlakke. Vgl. De Beaugrande en Dressler (1981).

10 Die identifikasie en beskrywing van leksikogramme kan ’n formele beskrywing van die gepastheid van ’n soort leksikografiese teks moontlik maak. Dit kan ook ’n belangrike rol speel in die beplanning van woordeboekgebruikspedagogieë.

11 ’n Woordeboek se ekologie is die produk van die veranderlikes wat verband hou met die woordeboek se doelstellings, die eienskappe van die soorte teikengebruikers, die gebruikersituasie(s) en die gebruiksituasie(s). In tekslinguistiese terme omvat dit die intensionaliteit, aanvaarbaarheid, kontekstualiteit en intertekstualiteit van ’n teks. Dit gaan dus oor die omgewing waarin die woordeboek/teks bedoel is om te funksioneer, en die teksdeelnemers wat in daardie omgewing daarby betrokke is.

12 Uiteraard sou daar ook ’n groot mate van oorvleueling tussen ’n leksikografiese databasis en ’n woordeboek kon bestaan, byvoorbeeld as daar min of geen verskil is nie tussen die struktuur van die databasis en dié van die gegenereerde teks wat die eindgebruiker tydens ’n naslaanprosedure gebied word.

13 Proposionele funksies is veralgemeende proposisies sonder betekenis, omdat die veranderlikes nie waardes het nie, maar voorgestel word deur x, y, ens. Wanneer sodanige veranderlikes in spesifieke instansies vaste waardes aanneem, kom proposisies tot stand. Vergelyk Lee (2017). Dieselfde beginsel geld vir kommunikatiewe funksies teenoor boodskappe.

14 Dit is moontlik om die gegewens in Tabel 2 (en die daaropvolgende tabelle) formeel met behulp van die predikaatlogika weer te gee, byvoorbeeld: MiKf(Lyselement) = Ψ [∃x, y [(x ∊ l) kon*D(x, y)] int*q], waarin l die konstante waarde “lys” verteenwoordig, D(x, y) die tweeplekpredikaat “x denoteer y”, ens. (Vgl. o.m. Allwood, Andersson en Dahl 1977, Kempson 1977, De Stadler 1989, Partee, Ter Meulen en Wall 1993 en Lee 2017.) Hierdeur sou onder meer die tekstuele kode duidelik van die natuurliketaalkode onderskei word. Die tabelformaat word egter ter wille van leesgemak ingespan.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Wat is (nie) ’n woordeboek (nie)? Die Woordelys van die <i>Afrikaanse woordelys en spelreëls</i> as gevallestudie appeared first on LitNet.

Bloemfontein as militêre setel in die tweede helfte van die 19de eeu, met spesiale verwysing na die Reitz-tydperk, 1889–1895

$
0
0

Bloemfontein as militêre setel in die tweede helfte van die 19de eeu, met spesiale verwysing na die Reitz-tydperk, 1889–1895

Marianna Botes, Departement Geskiedenis, Nasionale Museum en Navorsingsgenoot, Departement Geskiedenis, Universiteit van die Vrystaat en André Wessels, Departement Geskiedenis, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 18(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Bloemfontein is in 1846 as ’n Britse militêre bevelspos gestig. Nadat die Boererepubliek bekend as die Oranje-Vrijstaat (OVS) in 1854 tot stand gekom het, het Bloemfontein naas hoofstad van die republiek ook die fokuspunt en setel van dié Boerestaat se gewapende magte geword. In hierdie ondersoek word Bloemfontein as militêre setel in die tweede helfte van die 19de eeu beskryf en ontleed, met besondere verwysing na die jare 1889 tot 1895, toe F.W. Reitz die staatspresident was. Teen 1889 was die OVS as staat goed gevestig. Tien jaar later het die OVS aan die kant van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR; Transvaal) tot die stryd teen Brittanje toegetree (Anglo-Boereoorlog, 1899–1902). Van die vrae wat dus in hierdie artikel aan die orde gestel word, is: Hoe goed was die OVS se gewapende magte teen 1889 georganiseer? Wat is tydens die Reitz-era gedoen om die magte verder uit te brei? In welke mate is Bloemfontein se militêre infrastruktuur in dié jare verbeter? Die artikel het ’n sterk kultuurhistoriese inslag, omrede dit onder meer ook let op die tipe uniforms wat die OVS se Staatsartilleriste gedra het, en die rol van militêre orkeste en boukuns onder die loep geneem word (wanneer daar na die Queen’s/Bloemfontein Fort verwys word). Die Vrystaatse Staatsartillerie staan in die kern van die studie, maar die President Brand Rifles (wat tydens die Reitz-era tot stand gekom het) sal ook aandag geniet.

Trefwoorde: F.W.R. Albrecht; Bloemfontein; President Brand Rifles; Queen’s/Bloemfontein Fort; F.W. Reitz; Vrystaatse Staatsartillerie; wapenskoue

 

Abstract

Bloemfontein as military headquarters in the second half of the 19th century, with special reference to the Reitz era, 1889–1895

The Free State city of Bloemfontein’s history dates back to 1846, when the British Major H.D. Warden established a military post in the central Transgariep (later known as the Orange Free State, OFS). Given the town’s central geographical position in what is today South Africa, Bloemfontein was of strategic importance, and British soldiers were stationed there – mostly in Queen’s Fort. In 1854 the OFS became independent as a Boer republic, with Bloemfontein as its capital and headquarters of its military forces.

In this article Bloemfontein as military headquarters in the second half of the 19th century is discussed and analysed, with the emphasis on the years 1889 to 1895, when F.W. Reitz was the OFS’s fifth president, i.e. after J.P. Hoffman, J.N. Boshof, M.W. Pretorius and J.H. Brand. By 1889 the OFS was well-established as a state. But how well were the state’s military forces organised and equipped? What did Reitz do to improve matters? And: To what extent was Bloemfontein’s military infrastructure improved in those years? These and related matters will be discussed in the article. After all, soon after Reitz resigned, war clouds started to gather in southern Africa, and in 1899 M.T. Steyn, who succeeded Reitz as OFS president, took his country into war against Britain, on the side of his fellow Boer republic, the Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), as the Transvaal was then known, i.e. during the Anglo-Boer War of 1899 to 1902.

The history of the OFS’s State Artillery is central to the article. After the British withdrew from the Transgariep in 1854, the new OFS was militarily very vulnerable, in particular with regard to the protection of its eastern border with Basotholand (the present-day Lesotho). While J.P. Hoffman was the OFS’s first president (1854–1855) there were cordial relations with the Basotho. But this soon changed, and three OFS-Basotho Wars followed (1858, 1865–1866 and 1867–1868). The OFS’s State Artillery was established in 1857, when J.N. Boshof was the president of the OFS. It is shown how the State Artillery developed under Boshof and under his successor, J.H. Brand, and how this work was continued by Reitz. When Captain (later Major) F.W.R. Albrecht was appointed as the Artillery’s commanding officer in 1880 it was the dawn of a new era in its history. Albrecht was a Prussian who had served in the Franco-Prussian War of 1870 to 1871. He transformed the OFS State Artillery into a very professional and capable military unit. Several new field artillery pieces (guns) were bought; training was improved; new uniforms were acquired, and an Artillery Band was established. This band played an important role in Bloemfontein’s social and cultural life. The State Artillery’s headquarters in the Bloemfontein (ex-Queen’s) Fort was also modernised and expanded.

The Artillery’s history is closely linked to that of Bloemfontein and its people, as will be shown in the article. Another, but lesser known, military unit’s history (also closely linked to Bloemfontein) is that of the President Brand Rifles. It was established in 1888, i.e. shortly before Reitz became president, and functioned as an independent unit until shortly before the outbreak of the Anglo-Boer War. The President Brand Rifles consisted of volunteers, and also had its own band.

In the light of the fact that not much has been published on the topic thus far, the article is based primarily on contemporary newspaper articles, archival sources and government publications. Apart from dealing with military units and their equipment, the article also has a strong cultural-history dimension, because the uniforms of the military units are discussed, as well as their military bands (and interaction with the Bloemfontein community) and architecture (with special reference to Queen’s/Bloemfontein Fort).

In the course of the second half of the 19th century the OFS’s armed forces were gradually expanded and better equipped, but when the Anglo-Boer War broke out in October 1899 the state was, strictly speaking, still ill-prepared for the struggle that followed. The OFS State Artillery played a small but meaningful role in support of the country’s other forces, but at Paardeberg the largest portion of the Artillery (including their commanding officer and most of their guns) fell into British hands when the Boer force of General Piet Cronjé surrendered on 27 February 1900 after a ten-day siege. On 13 March 1900 the British forces, commanded by Lord Roberts, captured Bloemfontein unopposed. Hereafter the town would once again house the British military headquarters.

The article clearly shows that although the OFS’s State Artillery was gradually expanded in the course of the second half of the 19th century and all the state’s presidents, including F.W. Reitz, took a keen interest in the defence of the OFS, it did not save the Boer republic from British conquest in 1900. However, until the British occupation of Bloemfontein in March 1900 the capital city did play an important role as military headquarters, and as such also in the republican war effort. Today (2021) Bloemfontein is still the headquarters of a number of prominent units of the South African National Defence Force, while the Queen’s/Bloemfontein Fort, as well as a number of other structures, remind us of a bygone era.

Keywords: F.W.R. Albrecht; Bloemfontein; Free State State Artillery; military reviews; President Brand Rifles; Queen’s/Bloemfontein Fort; F.W. Reitz

 

1. Inleiding

Bloemfontein het in 1846 tot stand gekom toe die Britse majoor H.D. Warden ’n militêre pos in die sentrale deel van die Transgariep (later Oranje-Vrystaat) tot stand gebring het. Gegewe die nedersetting en later dorp se strategiese belang – siende dat dit sentraal geleë was – was Bloemfontein van meet af dus ook ’n plek van militêre belang en was dit vanselfsprekend dat soldate daar gestasioneer sou word. Aanvanklik is Britse soldate in Queen’s Fort en ander militêre strukture gehuisves. Nadat Brittanje in 1854 die onafhanklikheid van die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier erken het, het Bloemfontein die hoofstad van die Boererepubliek bekend as die Oranje-Vrijstaat (OVS) geword. Naas regeringsetel was Bloemfontein voortaan ook die fokuspunt en setel van die OVS se gewapende magte.

Uitgaande van die standpunt dat enige selfrespekterende staat oor ’n militêre mag moet beskik ten einde staatsoewereiniteit te verseker en die landsgrense te beskerm, is dit die doel van hierdie artikel om Bloemfontein as militêre setel in die tweede helfte van die 19de eeu te beskryf en te ontleed. Daar sal in besonder gelet word op die tydperk 1889 tot 1895, toe F.W. Reitz die president van die OVS was, d.w.s. die tydperk tussen die presidentskap van J.H. Brand (die langsdienende van alle OVS-staatshoofde) en M.T. Steyn (die laaste republikeinse Vrystaatse president). Teen 1889 was die OVS as staat goed gevestig. Maar hoe goed was die OVS se gewapende magte teen daardie stadium georganiseer en toegerus? Wat het Reitz gedoen om paraatheid te verbeter? So ook: In welke mate is Bloemfontein se militêre infrastruktuur in dié jare verbeter? Hierdie is van die vrae wat in die artikel aan die orde sal kom. Nie lank ná Reitz se uittrede nie het oorlogswolke in Suider-Afrika begin saampak. Daar sal dus kortliks gelet word op die militêre voorbereidings wat in die OVS getref is met die oog op ’n naderende konflik met Brittanje (Anglo-Boereoorlog, 1899–1902), en wat die gevolge daarvan was.

Deurgaans sal die klem op militêre bedrywighede in Bloemfontein val. Die artikel het egter ook ’n sterk kultuurhistoriese aanslag, omrede daar onder meer ook gelet word op die tipe uniforms wat die OVS se Staatsartilleriste gedra het, die rol van militêre orkeste bespreek word, en boukuns onder die loep geneem word (wanneer na die Queen’s/Bloemfontein Fort verwys word). Aangesien tot dusver nie veel oor die tema van hierdie artikel gepubliseer is nie, word sterk op argivale bronne, staatspublikasies en veral tydgenootlike koerante gesteun.

Francis William Reitz (5 Oktober 1844 – 27 Maart 1934) het op verskeie terreine help bou aan die OVS, en het uiteraard ook veel gedoen om Bloemfontein as hoofstad op te bou en uit te bou. Reitz was ’n besonder veelsydige persoon en ook ’n kultuurmens by uitnemendheid. Hy het immers onder meer as regsgeleerde gekwalifiseer (en later hoofregter van die OVS geword); was ’n joernalis; ’n politikus; ’n digter; ’n vegter vir Afrikaans (en bydraer tot die sogenaamde Eerste Taalbeweging); bevorderaar van letterkunde, kuns en wetenskap (en dus ook van onderwys); stigter van die Bloemfonteinse biblioteek, stigter van die Nasionale Museum in Bloemfontein, en veel meer.1

Alvorens egter aan die militêre opbou tydens die Reitz-era aandag geskenk word, word vervolgens eers kortliks op ontwikkelinge in jare 1846 tot 1888 gelet.

 

2. Van Britse militêre pos tot republikeinse hoofstad

Bloemfontein is om strategiese en militêre redes tot stand gebring. In die 1840’s wou die Britse owerhede weer eens hul gesag vestig oor die Voortrekkers wat die Kaap in die 1830’s verlaat het en het gevolglik op 3 Februarie 1848 die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier amptelik tot Britse gebied, voortaan bekend as die Oranjerivier-Soewereiniteit, verklaar. Die Britse majoor H.D. Warden het egter reeds in 1846 blykbaar toevallig op ’n sterk standhoudende fontein tussen die Riet- en Modderrivier afgekom. Uit ’n militêre oogpunt beskou was die plek by die fontein in elke opsig geskik vir die aanlê van ’n residensie, want die klein vallei was aan alle kante ingesluit deur koppies wat die omringende gelyk vlaktes oorheers het, en verder was die gebied vry van perdesiekte (KAB, GH10/1a; Barnard 1948:351). Volgens Warden is die plek Bloem Fontein genoem.2

Met sy stigting in 1846 was Bloemfontein ’n militêre pos of nedersetting met hoofsaaklik Britse soldate en amptenare. Die Engelssprekendes het dus reeds sedert die stigting van Bloemfontein ’n belangrike rol in die geskiedenis van die Vrystaatse hoofstad gespeel, en voor die totstandkoming van die Boererepubliek in 1854 was Bloemfontein die hoofkwartier van die Britse militêre en burgerlike administrasie noord van die Oranjerivier (Gerdener 1934:162–3; Haasbroek 1980:3, 5). ’n Afdeling van Warden se soldate, die Cape Mounted Riflemen (ook genoem die Cape Corps), het uit bruin (hoofsaaklik Khoi-Khoi) en wit troepe bestaan, onder wit offisiere (Collins 1907:21; Midgley 1949:125–31).

Die owerhede van die Oranjerivier-Soewereiniteit het nie ’n groot polisiemag in stand gehou nie. Die Britse regering in die gebied het gevolglik grootliks op hulle militêre mag gesteun om die rus en orde te handhaaf (Van Rensburg 1952:196).3 Daar is wel in die 1850’s naby die fort in St. Georgestraat ’n klein gevangenis opgerig en twee konstabels in diens geneem. In die tyd van die Soewereiniteit moes gevaarlike gevangenes deur ’n afdeling soldate bewaak word (Schoeman 1980:8). Na die onttrekking van die Britse mag en die totstandkoming van die Boererepubliek bekend as die OVS in 1854 moes die Boere maatreëls tref om wet en orde te handhaaf, en ook om hul grense waar nodig te beskerm. Dus was die stigting van ’n polisie- en militêre mag noodsaaklik vir die handhawing van wet en orde in die jong republiek. Veral in die hoofstad was ’n polisiemag weens toenemende misdaad broodnodig (Groenewald en Herholdt 1977:313).

Teen die tyd dat Reitz in 1889 president geword het, het Bloemfontein ontwikkel van ’n klein militêre nedersetting in 1846 tot ’n waardige, welvarende hoofstad van die modelrepubliek van die OVS. Bloemfontein was die middelpunt van alle politieke en ekonomiese gebeure in die Vrystaat en ook die hoofsentrum van die Vrystaatse handel, regstelsel en onderwys. Die Vrystaatse staatshoof en regering, asook die militêre mag, was in Bloemfontein as hoofstad gesetel en die Volksraad het jaarliks hier byeengekom.

Die veiligheid van ’n staat berus nie net by die regspleging en polisie nie, maar om sy onafhanklikheid te behou, het ’n land ook ’n militêre mag nodig. Met die onafhanklikwording van die OVS in 1854 is die Britse troepe uit die gebied onttrek, met die gevolg dat daar ’n groot leemte op militêre gebied ontstaan het en die jong republiek eintlik sonder militêre beskerming gelaat is. Dít het die Vrystaatse regering genoop om aan die opbou van ’n militêre mag aandag te gee. Die Voortrekkers se tradisionele verdedigingstelsel was die kommandostelsel en dit sou in die Boererepublieke uitgebou en gewysig word om by die eise van die tyd en omstandighede aan te pas. Veral die Basotho is as ’n groot bedreiging vir die Vrystaat beskou en daarom is die eerste kommandowet reeds in Mei 1854 gepubliseer (Bakkes 1979:300–1, 306; Ploeger 1969:10).

J.P. Hoffman (1807–1879) was die OVS se eerste staatspresident (1854–1855) en het goeie betrekkinge met die Basotho onder leiding van Moshoeshoe gehandhaaf, maar geen permanente oplossing vir grensgeskille kon gevind word nie. J.N. Boshof (1808–1881) was die OVS se tweede president (1855–1859) en tydens sy bewind het die Eerste Vrystaat-Basotho-oorlog plaasgevind (1858), wat danksy die Kaapse goewerneur, sir George Grey, se bemiddeling beëindig is. Tydens hierdie oorlog het dit reeds duidelik geblyk dat die OVS se gewapende magte ontoereikend was. M.W. Pretorius (1819–1901) was die derde president (1859–1863) en was aanvanklik tegelyk ook president van Transvaal. Hy kon vrede met die Basotho bewaar. J.H. Brand (1823–1888) was Reitz se voorganger as president (1864–1888) en het die OVS se gewapende magte versterk. Tydens die Tweede Vrystaat-Basotho-oorlog (1865–1866) het die OVS (met Transvaalse hulp) beter gevaar, en as dit nie vir Britse diplomatieke ingryping was tydens die Derde Vrystaat-Basotho-oorlog (1867–1868) nie, kon die OVS se magte Basotholand verower het (Anon 1968:104–7; Van Schoor 1968:114–21; Pelzer 1968:678–84; Venter 1977:410–2; Pretorius (red.) 2012:160–1).4

 

3. Die Vrystaatse burgermag en wapenskoue in Bloemfontein

Die Krygs- en Kommandowet (1854) het die bepalings van die krygstelsel van die OVS en die magte en bevoegdhede van die staatspresident en krygsoffisiere uiteengesit. Hiervolgens was alle burgers vanaf ouderdom 16 en alle mans wat op ’n latere leeftyd burgerreg verkry het, tot en met hulle 60ste jaar aan kommandodiens onderworpe en kon hulle dus in oorlogstyd opgeroep word. Vir elke wyk is ’n veldkornet deur die burgers van ’n betrokke wyk verkies, terwyl ’n veldkommandant ook vir elke distrik verkies is. Die veldkornette en veldkommandante moes in hulle eie distrikte woonagtig wees en moes grond in die bepaalde distrik besit het. Die veldkornette en veldkommandante wat op kommando byeengekom het, het dan in oorlogstyd ’n hoofkommandant uit eie geledere verkies, wat dan direk onder die gesag van die staatspresident gestaan het. Die veldkornette en veldkommandante het die mag gehad om die hoofkommandant om grondige redes te ontslaan en iemand in sy plek te verkies (Vrijstaatsche jaarboek en almanak 1893, 1892:39; Bakkes 1979:306–7; Ploeger 1969:10).

Die Vrystaatse burgers, in besonder diegene wat op plase grootgeword of gewoon het, was gewoonlik goeie skuts en het gereeld wapens hanteer en gebruik, maar om alle burgers op hoogte te hou met die krygskuns en wapenhantering is gereeld in elke distrik (en/of wyk) sogenaamde wapenskoue gehou. Die woord wapenskou het waarskynlik sy oorsprong in die Skotse woord wapinschaw gehad en Skotse gebruike het wel ’n invloed op die Vrystaat gehad. Die wapenskoue in die Vrystaat is aanvanklik op plaaslike vlak deur kommandante en landdroste vir ’n bepaalde distrik gereël. Omdat ’n wapenskou lede van ’n kommando bymekaargebring het, was dit ’n goeie geleentheid om krygsoefeninge te doen en militêre dissipline te bevorder. Dikwels is daar ook by sulke geleenthede in kompetisies, soos skyfskiet, meegeding (The Daily News, 17 Februarie 1890, bl. 4; Kapp 1975:192).

Aanvanklik het die Volksraad verwag dat elke burger sy eie geweer en ammunisie moet koop, maar in die 1890’s (dus toe Reitz, en later Steyn, die staatspresident was) is daar twyfel oor die paraatheid en wapenvaardigheid van die Vrystaatse burgers uitgespreek. Sommige burgers kon nie ’n goeie geweer en ammunisie bekostig nie en aangesien die Vrystaat-Basotho-oorloë verby was, was daar nie meer soveel nodigheid om die skietkuns te beoefen nie. Die burgers wat in die dorpe gewoon het, het ook nie dikwels die geleentheid gekry om aan skietoefeninge deel te neem nie. Gevolglik was die burgers nie meer sulke goeie skuts as gedurende die Voortrekker- en pionierstyd nie (De Express, 14 Julie 1890, bl. 2; The Friend, 10 Februarie 1891, bl. 2; 1 Maart 1892, bl. 2). Dus was die wapenskoue belangrik om die burgers se skietvermoë en krygskuns op te skerp.

Volgens Ordonnansie No. 29 van 1890 was veldkornette verplig om gereeld wapenskoue vir elke wyk te reël. Alle burgers tussen 18 en 40 jaar moes die wapenskoue toegerus met saal, toom, perd en geweer bywoon. Indien ’n burger aanvaarbare verskonings soos ongesteldheid, gebrek aan arbeiders of onvoldoende finansies of toerusting kon aanvoer, was hy nie verplig om die wapenskou by te woon nie. Daar is ook besluit dat ammunisie vir wapenskoue deur die staat verskaf sou word (The Daily News, 17 Februarie 1890, bl. 4; Kapp 1975:192; Swemmer 1953:108).

Nadat kaptein F.W.R. Albrecht in 1880 as bevelvoerder van die Vrystaatse Staatsartillerie aangestel is (later meer oor hom en oor die Staatsartillerie), het gereelde wapenskoue by Bloemfontein op die vlakte suid van die dorp plaasgevind (Schoeman 1980:99). Later het wapenskoue op Markplein in die Bloemfonteinse middedorp plaasgevind. In November 1890 het The Friend opgemerk dat baie min burgers die wapenskou bygewoon het en dat slegs ’n klein aantal van hulle gewere gehad het. In Februarie 1891 was daar groter geesdrif en het ongeveer 1 500 burgers uit die distrik Bloemfontein die wapenskou bygewoon. Ammunisie is deur die regering voorsien; die dag is tot openbare vakansiedag vir die distrik verklaar en die regeringskantore is vir die dag gesluit (The Friend, 11 November 1890, bl. 3; 21 November 1890, bl. 3; 17 Februarie 1891, bl. 3). Na die wapenskou van Februarie 1891 kon die veldkommandant van die distrik Bloemfontein rapporteer dat die wapenskou ’n groot sukses was en dat die burgers van die distrik steeds krygsvaardig en goeie skuts is (VAB, GS191a).

Die pers het nie altyd saamgestem nie en in 1894 berig The Friend dat by die wapenskou en skyfskietoefening wat in Desember van dieselfde jaar by die Bloemfonteinse perdewedrenbaan5 gehou is, ongeveer 50% van die skote die teiken gemis het. Daar is ’n beroep op burgers van jonger as 40 jaar gedoen om die wapenskoue by te woon, maar omdat deelname vrywillig was, het nie alle burgers noodwendig daaraan deelgeneem nie (The Friend, 14 Desember 1894, ble. 3–4; 21 Desember 1894, bl. 3).

President Reitz het dikwels die wapenskoue bygewoon. Wapenskoue wat in Bloemfontein gehou is, is ook deur burgers uit die distrik Bloemfontein en soms ook uit ander Vrystaatse distrikte bygewoon. Ofskoon die wapenskoue in die eerste plek militêr van aard was, was dit in die Vrystaat ook ’n gemeenskapsgeleentheid met ’n feestelike element. Die wapenskoue in die Vrystaat het gewoonlik twee tot drie dae geduur en die burgers is dikwels deur hulle gesinne vergesel, met die gevolg dat daar ’n groot aantal waens op die kampterrein saamgetrek was. By die kampterrein het ’n vrolike en gesellige atmosfeer geheers en ou bekendes het bande hernu. Terwyl die kinders en jongmense hulleself met speletjies vermaak het, het die ouer mans saans om die kampvuur vertel van die pioniersdae en van veldslae waaraan hulle deelgeneem het (The Friend, 29 Januarie 1892, bl. 2; 4 Maart 1892, bl. 2; Kapp 1975:192).

G. Reeler, wat in April 1891 ’n veldkornet van die Bloemfontein-kommando was, beveel in Junie 1891 aan dat alle Bloemfonteinse burgers verplig moet word om vir militêre diens te registreer. Elke geregistreerde burger moes self vir ’n perd, saal, toom, geweer en ammunisie voorsiening maak sodat hulle gereed sou wees indien die regering hulle vir kommandodiens moes oproep (VAB, GS191b; The Friend, 28 April 1891, bl. 3). Later is gekyk na moontlikhede om gewere teen kosprys aan burgers te voorsien. In Oktober 1891 maak president Reitz bekend dat die staat 500 Martini-Henry-karabyne in voorraad het wat burgers teen £4/5/– (vier pond en vyf sjielings) elk kon aankoop. Daar was ook rewolwers met holsters beskikbaar (Gouverments Courant, 23 Oktober 1891, bl. 3; The Friend, 27 Oktober 1891, bl. 2). Aangesien dit vir die republiek belangrik was dat sy burgermag goed bewapen moes wees, het die Volksraad in Mei 1895 besluit om gewere en ammunisie aan te koop en teen kosprys aan die Vrystaatse burgers beskikbaar te stel (Wet No. 12 van 1895, ble. 17–8).

In Februarie 1895 is daar ’n vergadering van burgers in Bloemfontein gehou om die moontlikheid van ’n uniform vir die burgermagte te bespreek. Dié uniform sou dan deur burgers by wapenskoue en ander geleenthede gedra word. Voorheen het burgers in ’n bonte verskeidenheid klere en pette of hoede by die wapenskoue opgedaag. Veldkornet Raaff het ’n voorbeeld van die beoogde uniform, bestaande uit ’n kakiebaadjie, kakierybroek en ’n veldhoed en pet met die Vrystaatse wapen daarop aan die burgers vertoon. Die uniforms sou nie veel kos nie en daar is dus van burgers verwag om dit self aan te koop. Die burgers was oorwegend ten gunste van die voorgestelde uniform (The Friend, 21 Desember 1894, bl. 3; 19 Februarie 1895, bl. 3; 22 Februarie 1895, bl. 3). In die praktyk het daar egter niks van dié idee gerealiseer nie en is uniforms dus steeds nie gedra nie.

 

4. Die Vrystaatse Staatsartillerie

Buiten die burgermagte is daar ook in 1857 ’n Staatsartillerie (amptelik bekend as die Artillerie-corps van den Oranjevrijstaat) vir die Vrystaatse Boererepubliek in die lewe geroep, maar dit was aanvanklik nie ’n baie sterk mag nie (Williams 1980:16). ’n Aantal kanonne is aangekoop en reeds deur die kommando’s in die Eerste Vrystaat-Basotho-oorlog van 1858 gebruik (Walmsley 1964:143; Crook 2006:31). Die fort wat in 1849 deur Warden se soldate op die hoogte van Monumentweg opgerig is, is deur die artilleriste beman en het ook as barakke vir hulle gedien (De Express, 23 Desember 1890, bl. 3). (Later meer oor dié fort.) Toe Brand in 1864 tot staatspresident verkies is, het hy stappe gedoen om die Staatsartillerie, wat toe uit net sewe lede bestaan het, op ’n beter grondslag te plaas. Derhalwe is daar in 1864 deur die Volksraad besluit om ’n bedrag van £10 000 op die begroting te plaas vir ’n “rijdende artillerie” van 20 manskappe wat vir die beskerming en die veiligheid van die staat se inwoners aangewend kon word (Walmsley 1964:143; Ploeger 1969:10; Crook 2006:33).

Die Vrystaatse Staatsartillerie sou in Bloemfontein gevestig wees. Kaptein John Goodman, voorheen van die Britse Royal Artillery, is as bevelvoerder aangestel, en in 1865 is daar manskappe vir die Artillerie gewerf. Rekrute moes 16 jaar of ouer wees, fiks en ongetroud. Die manskappe was dus meestal baie jonk en dit was grotendeels boereseuns uit die platteland wat by die Artillerie aangesluit het. Twee nuwe en meer moderne twaalfponderkanonne (een Whitworth en een Armstrong) is ook in 1864 vir die Artillerie aangekoop (Schoeman 1980:46; Walmsley 1964:143, 145).

Die artilleriste moes aanvanklik in uiters primitiewe toestande in die fort lewe, maar mettertyd is die geboue verbeter en die grondslag van ’n doeltreffender verdedigingstelsel gelê. ’n Groot verbetering in dié tyd was dat die voorraad kruit wat voorheen op lewensgevaarlike wyse in die fort self bewaar is, na ’n afsonderlike kruithuisie op ’n veilige afstand aan die voet van Fortheuwel verplaas is. Die artilleriste het aan die Vrystaat-Basotho-oorloë van 1865–1866 en 1867–1868 deelgeneem en die ledetal van die korps is gedurende dié tydperk verder vergroot. In 1869 het Goodman bedank en is hy deur adjudant J.A.J. van Rensburg as bevelvoerder opgevolg (Walmsley 1964:143–5; Schoeman 1980:46, 74; Crook 2006:33–4).

’n Nuwe era van bloei en vooruitgang het vir die Artilleriekorps aangebreek toe kaptein (later majoor) F.W.R. Albrecht in November 1880 as bevelvoerder van die korps aangestel is (Ploeger 1969:10; Crook 2006:34). Albrecht was ’n Pruisiese/Duitse soldaat wat aan die Frans-Pruisiese Oorlog van 1870–1871 deelgeneem het. Onder bevel van Albrecht is die Artilleriekorps uitgebrei, gereorganiseer en volgens die Pruisiese metode opgelei en gedissiplineer. Korpsregulasies is reeds in 1876 opgestel en is in 1886 en weer in 1889 gewysig en aangevul (Swemmer 1953:77–87; Schoeman 1980:99; Williams 1980:17). Albrecht het die Vrystaatse Staatsartillerie tot ’n militêre mag uitgebou waarop die Vrystaat met reg trots kon wees. ’n Reisiger wat Bloemfontein in 1891 besoek en die Artillerie in aksie gesien het, was uiters beïndruk deur die korps se dissipline en doeltreffendheid. Volgens hom het die Vrystaatse Artillerie baie goed met die Britse Horse Artillery vergelyk (The Friend, 27 November 1891, bl. 3).

Figuur 1. Majoor F.W.R. Albrecht, bevelvoerder van die Vrystaatse Artillerie. Bron: Foto 01/20, Nasionale Museum, Bloemfontein.

Intussen, in 1871, het die Vrystaatse Artillerie sy eie blaasorkes van 11 lede gekry met instrumente wat uit Duitsland ingevoer is. Nadat die Artillerie-orkes in 1873 onder leiding van dirigent Sam Barratt geplaas en tot 18 lede vergroot is, het dit ’n gewilde instelling geword wat by verskillende geleenthede, soos konserte, onthale, lesings, pieknieks, huwelike en amptelike funksies (hoofsaaklik in Bloemfontein), opgetree het (Walmsley 1964:143–5; Schoeman 1980:46, 74). Tydens die huweliksonthaal van president Reitz en sy tweede vrou, Cornelia Mulder, in 1889, het die orkeste van die Vrystaatse Artillerie en die President Brand Rifles (later meer oor hulle) buite die onthaalsaal só geesdriftig musiek gemaak dat die gaste mekaar skaars kon hoor praat (The Friend, 18 Desember 1889, bl. 3; 25 Desember 1889, bl. 2; Schoeman 1980:110). Na die aanstelling van kaptein Albrecht in 1880 is die musiekkorps verder vergroot en verbeter (Notulen der verrichtingen van den hoogedelen Volksraad van den Oranjevrijstaat, 19 Junie 1889). In 1890 het E.R. Landgraf as beide orkesleier en onderwyser vir die Artillerie opgetree (The Daily Express, 27 Junie 1890, bl. 3). In 1892 het Landgraf egter bedank en is ene mnr. Hand (voorheen orkesleier van die President Brand Rifles) as kapelmeester en J.J. Herfst as onderwyser van die Vrystaatse Artilleriekorps aangestel (The Friend, 3 Mei 1892, bl. 3; 10 Mei 1892, bl. 3). Beter instrumente is aangeskaf en onder leiding van August Grader, wat in 1895 vir Barratt as dirigent opgevolg het, het die Artillerie-orkes in ’n knap militêre orkes ontwikkel (Swemmer 1953:101).

Verder is die ontoereikende militêre geboue in Bloemfontein na Albrecht se diensaanvaarding ook opgegradeer. Toe Albrecht in 1880 as hoof van die Vrystaatse Artillerie aangestel is, het hy die ou Queen’s Fort (wat in 1849 in opdrag van die Kaapse goewerneur, sir Harry Smith, op die koppie van Monumentweg suid van die destydse nedersetting opgerig is) in ’n swak en uiters ondoeltreffende toestand aangetref. Dié fort was toe bloot ’n klipmuur bo-op grondwalle met drie bastions opgestapel en ’n dwarswal binne-in (De Express, 3 Augustus 1882, bl. 3; Schoeman 1980:5–6). Albrecht het die bouvallige fort stelselmatig begin herbou. Teen 1880 was daar in die ou Queen’s Fort net twee vertrekke, waarvan een as klaskamer en die ander as eet- en slaapruimte benut is. Daar was egter nie eens genoeg slaapplek vir al die artilleriste nie. Die fort self is vergroot en versterk, terwyl die Volksraad £2 500 vir ’n nuwe kaserne met vyf groot slaapsale, ’n klaskamer en ’n kombuis bewillig het (De Express, 23 Desember 1890, bl. 3; Swemmer 1953:95–7). Die kaserne is oorkant die fort in Monumentweg opgerig en in 1883 deur president Brand geopen. In 1888 is ’n stal vir 40 perde net suid van die fort opgerig, terwyl daar ook vir bergplek vir kanonne voorsien gemaak is (Swemmer 1953:95–8; Crook 2006:35; Schoeman 1980:99). Die fort het die sentrum van die Vrystaat se enigste militêre staande mag, naamlik die Staatsartillerie, gebly.

Omdat die ou fort op ’n baie strategiese plek geleë was, is die oorspronklike struktuur heeltemal gesloop en op dieselfde plek herbou en vergroot (The Friend, 25 September 1889, bl. 5). In Junie 1889 het die Volksraad £1 285 vir verdere aanbouings by die fort begroot (VAB, GS185; OVS Volksraadsnotule, 18 Junie 1889; De Express, 23 Desember 1890:3; Swemmer 1953:97–8). In dieselfde jaar is daar met behulp van swart werkers en bandiete ’n smidswinkel en ’n ekstra “hulpbergplaas” vir die kanonne by die fort aangebring, terwyl die fort ook omhein is (VAB, GS186a; VAB, GS190; VAB, GS320; OVS Volksraadsnotule, 16 Junie 1891). Die ondoeltreffende ou kruitmagasyn is in 1892 met ’n nuwe een op die vlakte suid van die dorp naby die sielsiekehospitaal vervang (VAB, UR15; VAB, PWD160; VAB, VR320; VAB VR352; Swemmer 1953:98).

Figuur 2. Ingang na Queen’s Fort, Bloemfontein, ca. 1970. Bron: Foto 01/2340, Nasionale Museum, Bloemfontein.

Gedurende 1892 is ’n groot gedeelte van die nuwe fort voltooi en ’n eetkamer en kombuis aangebou (VAB, PWD160:7–8), terwyl verbeterings ook aan die woonhuise van die offisiere op die terrein aangebring is. Volgens ’n lys van nodige herstelwerk aan die artillerie se geboue was daar in 1897 ’n “bommenkamer”, ’n arsenaal vir gewere, verskeie kruithuise, toilette, asook ’n kantoor en ’n waghuis wat deel van die fortkompleks uitgemaak het. Die fort het teen 1898 oor ’n klein hospitaal of siekeboeg beskik, asook oor ’n opeluggimnasium waarin die manskappe geoefen het (VAB, PWD160:7–11; VAB, PWD163:3–4; Bloemfontein directory, 1898, bl. 22). Majoor Albrecht het die fort dus mettertyd tot ’n sterk vesting opgebou. Tog is die fort nooit in ’n oorlogsituasie gebruik nie, want met die Britse opmars na Bloemfontein in Maart 1900 is besluit om die Vrystaatse hoofstad nie te verdedig nie (Bloemfontein directory, 1898, ble. 20–2; Swemmer 1953:98; Schoeman 1980:155–9). In die 1980’s is die ou fort in ’n militêre museum omskep, wat dit vandag (2021) nog steeds is.

Figuur 3. Binne-aansig van die fort, met artilleriste en kanonne, ca. 1897. Bron: Foto 01/2147, Nasionale Museum, Bloemfontein.

Behalwe al die militêre oefeninge het die jong artilleriste bedags vir drie ure lank elementêre onderwys in vakke soos Nederlands en Engels, asook skrif, rekenkunde, opstel, Bybelgeskiedenis en geskiedenis in die algemeen ontvang. In 1887 is ’n seinkorps in die lewe geroep en is die lede daarvan in die gebruik van die heliograaf6 onderrig (Walmsley 1964:144; Swemmer 1953:98–100). Daar is ook van tyd tot tyd krygs- en skietoefeninge op die skietbaan agter die fort gehou wat soms deur president Reitz en van die Volksraadslede bygewoon is (VAB, GS185; The Daily Express 13 Junie 1890, bl. 2).

Teen 1890 is die Vrystaatse Artillerie vergroot tot ’n militêre eenheid met 56 lede, bestaande uit die kaptein, ’n luitenant, ’n sersant, vier korporaals, vier bombardiers en 45 manskappe, asook 40 perde (De Express 13 Desember 1890, bl. 3; Albrecht s.j.:3). Vier jaar later het die Artillerie oor ses 75 mm-Krupp-kanonne, vyf negeponder-Armstrong-kanonne, een sesponder-Whitworth-kanon en drie drieponder-Whitworth-bergkanonne, asook 1 403 gewere beskik (Vrijstaatsch jaarboek en almanak 1894, bl. 145).7 In Julie 1894 het die Volksraad ’n bedrag van £800 begroot om twee Maxim-Nordenfeldt-snelvuurkanonne (ook genoem pom-poms) aan te koop. Hierdie kanonne is in Februarie 1896 afgelewer (The Friend, 10 Julie 1894, bl. 2; Crook 2006:36).

Figuur 4. Kanonne van die Vrystaatse Artillerie. Bron: Foto 01/1379, Nasionale Museum, Bloemfontein.

Die artilleriste het beslis nie honger gely nie. ’n Uittreksel uit die 1876-korpsregulasies gee ’n goeie idee van die voedselvoorraad wat aan die Artillerie uitgereik is:

Elk officier, onderofficier en Artillerist zal ontvangen: 1¼ lb. vleesch, 1lb. brood, dagelijks; en per week, ½lb. koffij, 1lb. suiker, 1lb. rijst, ½ bottel azijn en ½ lb. gort, wordende zout, peper, hout en groenten voor officieren en manschappen overigens gezamentlijk aangekocht, zullende de aangekochte groenten en andere voedingsmaterialen hierin niet gespecificeerd gelijkelijk worden verdeeld en niet meer kunne bedragen dan £2 sterling per week voor het geheele Corps.8

In Februarie 1890 het die artilleriste gekla dat hulle voedsel nie goed voorberei word nie en oneetbaar is, maar dit is deur kaptein Albrecht ontken, waarna die president persoonlik na die kaserne is om die probleem op te los (VAB, GS186b).

Die uniforms van die Vrystaatse Artillerie het van tyd tot tyd verander. In 1880 het die Artillerie nuwe uniforms gekry, op die uniforms van die Britse Royal Field Artillery geskoei (VAB, A534; Walmsley 1964:146–7). In 1885 het die groottenue of parade-uniform van offisiere uit ’n blou tuniek en broek bestaan, versier met goue koord, asook ’n blou helmet in Britse styl, met ’n brons wapen en bykomstighede. Die groottenue van die manskappe was dieselfde as dié van die offisiere, maar was met oranje koord versier. Die kleintenue of velduniform van offisiere was van blou sersje gemaak en met swart koord afgewerk, terwyl ’n Britse pet van blou materiaal, versier met goue koord, gedra is. Die velduniform van die manskappe, daarenteen, was van bruin Bedford-koordfluweel gemaak en met swart koord versier (Walmsley 1964:147–50; Swemmer 1953:101). In 1889 het die artilleriste ook ’n wit uniform gedra, maar omdat dit nooit baie gewild was nie, is dit met verloop van tyd afgeskaf (OVS Volksraadsnotule, 19 Junie 1889).

Figuur 5. Voorbeelde van Artillerie-uniforms. Bron: Foto VA4422, Vrystaatse Provinsiale Argiefbewaarplek.

Terwyl kaptein Albrecht die Artilleriekorps op Pruisiese grondslag georganiseer het, is daar ook geleidelik van die Britse tipe uniform na die Pruisiese uniform oorgeskakel en teen 1895 het die artilleriste ’n volledige Duitse uniform gedra – soortgelyk aan die uniforms van die Duitse artillerie uit dieselfde tydperk.9 Tot met die Anglo-Boereoorlog het artilleriste en offisiere ’n Pruisiese leerhelm by ’n blou uniform met oranje koordversiering gedra. As deel van die velduniform het die Vrystaatse artilleriste wit lyfbande skuins oor die bors en om die middel gedra. Hulle is verder met ’n hoë stafpet, asook ’n ligte diensuitrusting met ’n slaprandhoed uitgerus (VAB, A534; Swemmer 1953:102). Offisiere se tuniek was met goue koord versier. Die helmplaat het uit ’n agtpuntige ster met die Vrystaatse wapen in die middel bestaan. Die helm van die parade-uniform was van ’n ligte oranje, slap verebos aan die helmknop voorsien (Williams 1981:10; 1980:17).

Figuur 6. Die parade-uniform van die Vrystaatse Artillerie, 1895. Bron: W.A. Walmsley, “Staatsartillerie van die OVS: Uniform and organization”, Africana Aantekeninge en Nuus, 16(4), Desember 1964, bl. 154.

Die aanstelling van kaptein Albrecht in 1880 en die reorganisasie van die Artilleriekorps het ’n verreikende invloed op die verdedigingstelsel van die Vrystaat gehad en uiteindelik ’n groot verbetering op militêre gebied meegebring. Nogtans was die Vrystaatse Staatsartillerie nie werklik ’n sterk militêre eenheid nie, aangesien die Artillerie en burgermagte net vir verdedigingsdoeleindes bedoel was en nie vir aggressiedoeleindes soos die uitbreiding van die OVS se grense nie (Swemmer 1953:128). Selfs in 1895 (kort voor die einde van die Reitz-era) het die Artillerie nog uit net 48 lede bestaan – die kaptein, ’n luitenant, sersant-majoor, sersant, twee bombardiers, ’n onderoffisier en 41 manskappe – asook 38 perde (dus agt lede en twee perde minder as in 1890) (Albrecht s.a.:3). President Reitz was gretig om die Staatsartillerie verder uit te bou, maar finansiële uitdagings het hom gekortwiek (Crook 2006:35). Eers met die Jameson-inval in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR, soos die Transvaal destyds amptelik bekend gestaan het) aan die einde van Desember 189510 en die gepaardgaande bedreiging wat dit vir die OVS se toekomstige onafhanklikheid ingehou het, sou daar hierin ’n verandering kom (Swemmer 1953:128).

Aanvanklik het ’n onderafdeling van die Vrystaatse Staatsartillerie, bekend as die Berede Diensmag, in die Vrystaatse distrikte en op die grense van die republiek diens gedoen. Omdat die artilleriste te min was om gelyktydig in Bloemfontein en die Vrystaatse distrikte diens te doen, is daar tydens die Volksraadsitting van Mei 1889 besluit om ’n afsonderlike berede polisiemag, die sogenaamde Vrijstaatsche Rijdende Dienstmacht, onder bevel van kaptein F.W.R. Albrecht, kommandant van die Vrystaatse Artillerie, in die lewe te roep. Ofskoon dié mag hoofsaaklik polisiëring gedoen het, het dit tog ’n sterk militêre karakter gehad (Swemmer 1953:110–9). Volgens Ordonnansie No. 16 van 1889 het die berede diensmag aanvanklik slegs uit 20 wit mans bestaan, en ofskoon hulle oor die hele Vrystaat ontplooi kon word, sou hul hoofkwartier in Bloemfontein wees. Hulle taak was om smokkelhandel en onreëlmatighede teë te gaan, diefstal te voorkom, orde te handhaaf en die vrede te bewaar, ook op die grense van die staat. Die berede polisiemag het dikwels ook swart mense sonder passe aangekeer (Gouvernements Courant 21 Junie 1889, bl. 2; The Friend, 19 Junie 1889, bl. 3; 3 Julie 1889, bl. 3; 9 September 1892, bl. 2).

Volgens tenders wat in Oktober 1892 aangevra is, het die berede polisiemanne uniforms gedra wat bestaan het uit baadjies en rybroeke van swart koordfluweel, swart rystewels en swart vilthoede met oranjekleurige bande. Op elke baadjie was twee Vrystaatse wapens van brons aangebring (The Friend, 9 April 1895, bl. 2).

Die Rijdende Dienstmacht was só doeltreffend dat daar in 1890 besluit is om dit te vergroot. Die aanlê van spoorlyne en die arbeidsvraagstuk het ook ’n groter diensmag genoodsaak. Aangesien artilleriste uiteraard oor militêre ondervinding beskik het, is heelwat manskappe wat voorheen in diens van die Artilleriekorps was, in die Dienstmacht opgeneem (Swemmer 1953:120–2; Van der Bank 2004:34). Teen 1894 het die berede polisiemag reeds uit 87 (almal blanke, berede) lede bestaan, van wie ses in Bloemfontein gestasioneer was (Vrijstaatsch jaarboek en almanak 1894, bl. 145; Van der Bank 2004:34). Die berede polisiemag het dus die staats- en munisipale polisie aangevul en hulle in die uitvoering van hul pligte gehelp. In Julie 1896 is die Dienstmacht onder die bevel van kommissaris Markus van die polisie geplaas en het dit voortaan meer van ’n “polisiekarakter” aangeneem (Swemmer 1953:121–4).11

 

5. President Brand Rifles

Die President Brand Rifles was ’n vrywilligerkorps wat in 1888 na die dood van president J.H. Brand tot stand gekom het. By die stigtingsvergadering van die korps in Bloemfontein op 10 September 1888 het 60 persone by die korps aangesluit (Curson 1954:48), en daar is op dié naam besluit ter ere van die Vrystaat se gewilde president Brand wat in Julie van dieselfde jaar oorlede is. Die Rifles het jaarliks in Julie tydens ’n plegtige seremonie ’n krans op die graf van wyle president Brand gaan lê. Hierdie militêre eenheid het aanvanklik onder bevel van kaptein J.W.G. Steyn gestaan en is volgens Britse weermagstyl in Engels gedril deur drilinstrukteur T. Geary, ’n voormalige sersant-majoor wat uit Ierland afkomstig was (The Daily Express 14 Julie 1890, bl. 3; The Friend, 20 Februarie 1889, bl. 3; Curson 1954:48).

Die Rifles se driloefeninge is in hulle drilsaal in Fonteinstraat gehou, in die gebou wat voorheen as die Orange Free State Pioneer Lodge bekendgestaan het. Kort na die stigting van die korps het hulle reeds komplimente vir hul drilwerk ontvang. In Februarie 1889 het die korps deftige nuwe uniforms uit Duitsland gekry, waarvoor elke lid self ’n finansiële bydrae moes lewer (The Friend, 13 Februarie 1889, bl. 3; 20 Februarie 1889, bl. 3). Ofskoon die Rifles ’n vrywilligerkorps was, is streng militêre dissipline toegepas, en manskappe wat nie die driloefeninge bygewoon het nie of regulasies oortree het, is in rang verlaag of uit die eenheid geskors. Die korps het maandeliks ’n kerkparade op Bloemfontein se Markplein gehou waartydens hulle blaasorkes, onder leiding van Charles Acton, musiek gemaak het (The Daily Express, 5 Augustus 1890, bl. 2; The Friend, 13 Maart 1889, bl. 3; 17 Julie 1889, bl. 3; 14 Augustus 1889, bl. 3).

In Januarie 1890 het J.W.G. Steyn weens werkverpligtinge as bevelvoerder van die korps bedank en is hy deur ene kaptein Hughes opgevolg. Die blaasorkes, onder leiding van die nuwe orkesleier, ene Edwards, het dikwels promenadekonserte in die goewermentstuin gehou, waartydens die tuin soms met Chinese lanterns verlig is (The Daily News, 9 Januarie 1890, bl. 3; 4 Februarie 1890, bl. 3; 11 Februarie 1890, bl. 3; 15 Februarie 1890, bl. 3). In Februarie 1890 is kaptein J.F.G. Davis as die onderbevelvoerder van President Brand Rifles, wat toe reeds meer as 70 man sterk was, aangestel (De Express, 18 Februarie 1890, bl. 3; The Daily News, 27 Februarie 1890, bl. 2; 4 Maart 1890, bl. 3). Die volgende maand versoek Hughes die regering om 80 gewere aan President Brand Rifles te leen om mee te oefen, terwyl hy president Reitz verseker dat die korps binnekort hulle eie gewere sal aanskaf. Hughes se versoek is deur kaptein Albrecht, in sy hoedanigheid as bevelvoerder van die Vrystaatse Staatsartillerie, goedgekeur (VAB, GS186c). In Mei 1890 is kaptein Davis in die plek van kaptein Hughes as bevelvoerder van die korps aangestel (De Express, 27 Mei 1890, bl. 4; The Daily Express, 31 Mei 1890, bl. 2).

In Augustus 1890 het die President Brand Rifles die Vrystaatse regering versoek om die korps oor te neem, op voorwaarde dat hulle voortaan staats- en finansiële ondersteuning sou geniet (VAB, GS189a; The Daily Express, 16 Augustus 1890, bl. 3). Nadat die lede van die korps die eed van getrouheid aan die OVS Boererepubliek afgelê het, het die regering onderneem om voortaan ’n jaarlikse toelae aan die korps te betaal vir die onderhoud van die eenheid en vir die aankoop van toerusting en wapens (VAB, GS189b; The Daily Express, 2 November 1890, bl. 2). Die Rifles het dus nou voortaan onder die gesag van die regering gestaan, en in November 1890 het die veldkornet van Bloemfontein, S. Goddard, die korps en hulle toerusting geïnspekteer (The Daily Express, 16 September 1890, bl. 3; 18 November 1890, bl. 3).

Dieselfde maand het kaptein C.A. Hanger die bevelvoerder van die Rifles geword en is in Julie 1891 deur majoor G. Reeler opgevolg (The Daily Express, 18 November 1890, bl. 3; The Friend, 7 Julie 1891, bl. 3). Die President Brand Rifles was steeds tot ’n groot mate ’n selfonderhoudende korps en was nie altyd tevrede met die behandeling wat hulle van die regering ontvang het nie. So was hulle in September 1892 baie ongelukkig omdat die gebou wat hulle as drilsaal gehuur het, verkoop is en hulle net 24 uur kennis gekry het om dit te ontruim (The Friend, 2 September 1892, bl. 3). Daar was ook klagtes oor die gebrek aan belangstelling wat Bloemfontein se jong mans in die korps getoon het en ’n paar keer was die voortbestaan van die Rifles selfs in die weegskaal (The Friend, 13 Maart 1891, bl. 3; 26 Mei 1891, bl. 3). Ten spyte van hierdie probleme het die President Brand Rifles klaarblyklik tot die Anglo-Boereoorlog (of tot kort voor die oorlog) voortbestaan.12

 

6. Slotperspektiewe

Die periode 1889 tot 1895, toe F.W. Reitz die staatspresident van die OVS was, was ’n besonderse tydperk in die geskiedenis van die Boererepubliek en in besonder ook in die geskiedenis van Bloemfontein as hoofstad van die land.13 President M.T. Steyn, wat op 4 Maart 1896 as Reitz se opvolger as staatspresident ingesweer is (Van Schoor 2009:46–7, 55–61), het op militêre en ander terreine op die goeie werk van sy voorganger voortgebou. In die lig van die Jameson-inval (waarna reeds verwys is) en die toenemende moontlikheid van oorlog tussen die ZAR en Brittanje, het die ZAR sowel sy kommandolede as die Transvaalse Staatsartillerie van meer en beter gewere en kanonne voorsien (Breytenbach 1978:77–89; Crook 2006:44–50). Die OVS het dieselfde gedoen, maar aangesien die Vrystaatse burgermag en Artillerie kleiner was as dié van die ZAR, en geld ook veel skaarser was in die OVS, was die wapenaankope nie so omvangryk as in die ZAR nie. Nogtans het die OVS van 1896 tot die vooraand van die Anglo-Boereoorlog agt addisionele 75 mm-Krupp-kanonne, minstens 8 000 Martini-Henry-gewere, 100 Guedes-gewere, 9 500 Mauser-gewere (plus 80 “sport”-Mausers) en net meer as 100 Webley-rewolwers aangeskaf. Die OVS se Staatsartillerie se personeel is ook uitgebrei en het by die uitbreek van die oorlog 74 staandemaglede en minstens 400 reserwelede gehad. Die korps se begroting het ook gestyg van £4 200 in 1871 tot ongeveer £10 700 in 1897. In Junie 1899 het die OVS Volksraad ’n verdere £4 050 begroot om nog drie 37 mm-Krupp-snelvuurkanonne, drie masjiengewere en drie vragwaens aan te skaf, maar die oorlog het uitgebreek voor dié wapentuig afgelewer is (Swemmer 1953:102–6; Crook 2006:36; Breytenbach 1978:58; 89).

Toe die Anglo-Boereoorlog op 11 Oktober 1899 uitbreek, was die OVS ooreenkomstig die 1897-verdrag wat tussen die OVS en die ZAR bestaan het, en waarvolgens die een die ander sou bystaan sou enigeen se onafhanklikheid bedreig word (en die Vrystaatse regering se besluit om inderdaad hul mede-Boererepubliek in geval van ’n oorlog met Brittanje te steun), nou ook in ’n staat van oorlog teen die wêreld se enigste supermoondheid van destyds. Die Vrystaatse kommando’s is hoofsaaklik aan die OVS se suidfront en wesfront, en aan die Natalse front ontplooi, met die Vrystaatse Staatsartillerie wat hoofsaaklik aan die wesfront ontplooi is (Swemmer 1953:155–61; Breytenbach 1978:149–53). Die Vrystaatse magte het onder meer aan die beleg van Ladysmith en Kimberley deelgeneem en aan die onderskeie fronte teen die Britse opmarse probeer walgooi, insluitende by Stormberg (10 Desember 1899) en Magersfontein (11 Desember 1899). Uiteindelik was die Britse druk en oormag egter te veel – generaal P.A. Cronjé is by Paardeberg tot oorgawe gedwing (27 Februarie 1900) en twee weke later het die Britte Bloemfontein sonder enige weerstand beset (13 Maart 1900). Majoor Albrecht, die meeste ander lede van die OVS se Staatsartillerie, tesame met die meeste van dié Artillerie se kanonne, het te Paardeberg in Britse hande geval.14 Alle regeringsgeboue, insluitende die fort en die ander militêre geboue en strukture, het dus in Britse hande geval en is voortaan deur die Britse leër benut, soos ook vroeër in die jare 1846 tot 1854 die geval was.

Figuur 7. Britse troepe beset die fort, Bloemfontein, 13 Maart 1900. Bron: Foto 01/1394, Nasionale Museum, Bloemfontein.

Die Vrystaatse magte se grootste terugslag was in die Brandwaterkom, in die Oos-OVS, waar einde Julie, begin Augustus 1900 drie generaals, nege kommandante, en minstens 4 314 burgers oorgegee het sonder om enigsins weerstand te bied, en ook drie kanonne moes prysgee (Amery (red.) (1906:297–343); Pretorius 2010:57–8).15 Die oorblywende OVS-burgers en enkele kanonne het deur middel van guerrilla-oorlogvoering die versetstryd so goed as moontlik probeer voortsit, met president M.T. Steyn die volgehoue inspirasie vir en gees van die onafhanklikheidstrewe, en generaal C.R. de Wet in die praktyk die bekendste en een van die suksesvolste Boere-guerrillabevelvoerder, indien nie dié suksesvolste nie.16 Intussen het Bloemfontein weer eens (soos in die jare 1846 tot 1854) as ’n belangrike Britse militêre sleutelpunt gedien, maar nou as ’n basis vir teen-guerrilla-optredes. Uiteindelik was die Britte suksesvol in hul stryd teen die Boere, en het die oorblywende Boere ingevolge die voorwaardes van oorgawe wat op 31 Mei 1902 in Pretoria onderteken is, die stryd gewonne gegee (Du Preez 1986, verspreid; Kestell en Van Velden 1909, verspreid; Van Schoor 2005:139–251).

Die OVS se militêre voorbereidings onder leiding van die Reitz-regering, en daarna dié van die Steyn-regering, was dus nie voldoende om die OVS (en dus ook Bloemfontein as regeringsetel) uit die kake van die Britse Ryk te red nie. Dit het egter nie eerloos vir die OVS afgeloop nie. As selfrespekterende staat het die OVS – met inagneming van finansiële en ander beperkinge – alles moontlik gedoen om staatsoewereiniteit te verseker. Toe oorlog teen Brittanje uitbreek, het hulle aan die kant van hul susterrepubliek, die ZAR, tot die stryd toegetree. As militêre setel het Bloemfontein ’n deurslaggewend belangrike rol in die verdediging van die OVS gespeel. Dit was hier waar tot Maart 1900 vele van die besluite ten opsigte van deelname aan en strategie ten opsigte van die oorlog geneem is.

In die tweede helfte van die 19de eeu is die stad se militêre infrastruktuur verbeter en die gewapende magte opgebou, maar die stad kon nie sinvol teen ’n groot en goedtoegeruste leër beskerm word nie, en is dus sonder weerstand oorgegee. F.W. Reitz het, soos sy opvolger (M.T. Steyn), sy bes gedoen om die OVS se gewapende magte op te bou, maar uiteindelik was dit tevergeefs. Vandag (2021) is Bloemfontein die tuiste van ’n hele aantal belangrike eenhede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, en is die Bloemfontein (Queen’s) Fort, asook enkele ander oorblywende strukture, die stille getuies van ’n tydperk in die geskiedenis van die Vrystaat toe Bloemfontein in die konteks van ’n totaal ander en verbygegane era ook ’n belangrike republikeinse militêre setel was.

 

Bibliografie

Boeke, vakpublikasies, verhandelinge, proefskrifte

Albrecht, F.W.R. s.j. Rapport van den kaptein der Artillerie, 1892–1893. Geen uitgewer aangedui.

Amery, L.S. (red.). 1902. The Times history of the war in South Africa 1899–1902. Band 2. Londen: Sampson Low, Marston and Company, Ltd.

— . 1905. The Times history of the war in South Africa 1899–1902. Band 3. Londen: Sampson Low, Marston and Company, Ltd.

—. 1906. The Times history of the war in South Africa 1899–1902. Band 4. Londen: Sampson Low, Marston and Company, Ltd.

Anon. 1968. Boshof(f), Jacobus Nicolaas. In De Kock (hoofred.) 1968.

Bakkes, C.M. 1979. Die kommandostelsel met spesiale verwysing na die historiese ontwikkeling van sy rangstruktuur. In Nel (red.) 1979.

Barnard, B.J. 1948. ’n Lewensbeskrywing van majoor Henry Douglas Warden. Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, 11(1). Kaapstad: Die Staatsdrukker.

Bloemfontein directory, 1898. Geen uitgewer aangedui.

Botes, S.M. 2014. Bloemfontein gedurende die bewind van president F.W. Reitz, 1889–1895: ’n Kultuurhistoriese studie. PhD-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.

Breytenbach, J.H. 1978. Die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika, 1899–1902. Band 1. Pretoria: Die Staatsdrukker.

Carruthers, J. (red.). 1996. The Jameson raid: A centennial retrospective. Johannesburg: Brenthurst Press.

Collins, W.W. 1907. “Free Statia”; or reminiscences of a lifetime in the Orange Free State. Bloemfontein: The Friend.

Crook, L. 2006. Artillery of the Anglo-Boer War 1899–1902. Brandfort: Kraal Uitgewers.

Curson, H.H. 1954. President Brand Rifles. Africana Aantekeninge en Nuus, 11(2):48–9.

De Bruin, J.H. 2009. ’n Regshistoriese studie van die finale oorgawe van die Oranje-Vrystaat se konvensionele magte gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899–1902). LLD-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.

De Kock, W.J. (hoofred.). 1968. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek. Band 1. Kaapstad: Nasionale Pers.

De Kock, W.J. en C.J. Beyers (hoofreds.). 1977. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek. Band 3. Kaapstad: Tafelberg.

De Wet, C.R. 1903. De strijd tusschen Boer en Brit. Amsterdam: Höveker en Wormser.

Du Plooy, W.J. 1977. Die militêre voorbereidings en verloop van die Jameson-inval. MA-verhandeling, Universiteit van Pretoria.

Du Preez, S.J. 1986. Die vrede van Vereeniging. DPhil-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Gerdener, G.B.A. 1934. Ons kerk in die Transgariep: Geskiedenis van die Ned. Geref. kerke in Natal, Vrystaat en Transvaal. Kaapstad: Nasionale Pers.

Grobbelaar, P.W. (red.). 1975. Die Afrikaner en sy kultuur. Band 3. Kaapstad: Tafelberg.

Groenewald, H.H.A. en A.D. Herholdt. 1977. Bloemfontein tot 1900: ’n Argitektuur-historiese studie. Bloemfontein: Departement Argitektuur, Universiteit van die Oranje-Vrystaat.

Haasbroek, J. 1980. Die rol van die Engelse gemeenskap in die Oranje-Vrystaat 1848–1859. Memoirs van die Nasionale Museum, 15:3–5.

Het Vrijstaatsch jaarboek en almanak 1894. 1893. Bloemfontein: Barlow Brothers.

Kapp, P.H. 1975. Ons volksfeeste. In Grobbelaar (red.) 1975.

Kestell, J.D. en D.E. van Velden. 1909. De vredesonderhandelingen tusschen de regeringen der twee Zuid-Afrikaansche republieken en de vertegenwoordigers der Britsche regeering welke uitliepen op den vrede, op 31 Mei 1902 te Vereeniging gesloten. Amsterdam: De Bussy.

Midgley, J.F. 1949. The Orange River Sovereignty (1848–1854). Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, 12(2). Parow: Die Staatsdrukker.

Moll, J.C. 1968. Francis William Reitz en die republiek van die Oranje-Vrystaat. Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, 36. Pretoria: Die Staatsdrukker.

Nel, P.G. (red.). 1979. Die kultuurontplooiing van die Afrikaner. Pretoria: HAUM.

Notulen der verrichtingen van den hoogedelen Volksraad van den Oranjevrijstaat, 1889–1895. s.j. Bloemfontein: C. Borckenhagen.

Pelzer, A.N. 1968. Pretorius, Marthinus Wessel. In De Kock (hoofred.) 1968.

Ploeger, J. 1969. Op brandwag – drie eeue militêre geskiedenis van Suid-Afrika. Militaria: Tydskrif vir Militêre Geskiedenis, 1(4):5–47.

Pretorius, F. 2001. The great escape of the Boer pimpernel Christiaan de Wet: The making of a legend. Pietermaritzburg: University of Natal Press.

—. 2010. The A to Z of the Anglo-Boer War. Lanham: The Scarecrow Press.

Schoeman, K. 1980. Bloemfontein: Die ontstaan van ’n stad 1846–1946. Kaapstad: Human & Rousseau.

Schoeman, K. (red.). 1988. The Bloemfontein diary of Lieut. W.J. St. John 1852–53. Kaapstad: Human & Rousseau.

Scholtz, L. 2003. Generaal Christiaan de Wet as veldheer. Pretoria: Protea Boekhuis.

Swemmer, T.P.E. 1953. Die geskiedenis van die Vrystaatse Artillerie. MA-verhandeling, Universiteit van die Oranje-Vrystaat.

Van der Bank, D.A. 2004. Polisiemagte van die Vrystaatse republiek 1854–1900. Navorsinge van die Nasionale Museum, 20(2):46–64.

Van Rensburg, A.P.J. 1952. Die rol deur landdroste, vrederegters en veldkornette in die distrik van Bloemfontein vanaf 1854–1880 gespeel. MA-verhandeling, Universiteit van die Oranje-Vrystaat.

Van Schoor, M.C.E. 1968. Brand, Johannes Henricus. In De Kock (hoofred.) 1968.

— . 2005. Die bitttereinde vrede: Vredespogings en -onderhandelinge voor en tydens die Anglo-Boereoorlog 1899–1902. Brandfort: Kraal Uitgewers.

— . 2009. Marthinus Theunis Steyn: Regsman, staatsman en volksman. Pretoria: Protea Boekhuis.

Venter, W.A. 1977. Hoffman(n), Josias Philippus. In De Kock en Beyers (hoofreds.) 1977.

Vrijstaatsche jaarboek en almanak 1893. 1892. Bloemfontein: Uitgewer onbekend.

Walmsley, A.B. 1964. Staatsartillerie van de OVS: Uniform and organization. Africana Aantekeninge en Nuus, 16(4):143–56.

Wet No. 12 van 1895. Wetboek van den Oranje-Vrijstaat, 1895. Bloemfontein: C. Borckenhagen.

Williams, J.R. 1980. A little bit of Prussia on the veld. Kaizerzeit, 9(3):16–22.

—. 1981. Orange Free State Artillery Corps, circa 1895. Dispatch, 95:10.

Koerante

De Express en Oranjevrijstaatsch Advertentieblad, 18 Februarie 1890, 27 Junie 1890, 14 Julie 1890, 13 Desember 1890, 23 Desember 1890.

De Gouvernments Courant, 21 Junie 1889, 23 Oktober 1891.

The Daily Express, 13 Junie 1890, 14 Julie 1890, 5 Augustus 1890, 16 Augustus 1890, 16 September 1890, 18 November 1890, 28 November 1890.

The Daily News, 9 Januarie 1890, 4 Februarie 1890, 11 Februarie 1890, 15 Februarie 1890, 17 Februarie 1890, 27 Februarie 1890, 4 Maart 1890.

The Friend of the Free State and Bloemfontein Gazette, 13 Februarie 1889, 18 Februarie 1889, 20 Februarie 1889, 13 Maart 1889, 19 Junie 1889, 17 Julie 1889, 14 Augustus 1889, 9 September 1889, 25 September 1889, 25 Desember 1889, 11 Februarie 1890, 21 November 1890, 23 Desember 1890, 29 Januarie 1891, 10 Februarie 1891, 17 Februarie 1891, 13 Maart 1891, 28 April 1891, 26 Mei 1891, 7 Julie 1891, 27 Oktober 1891, 27 November 1891, 1 Maart 1892, 4 Maart 1892, 3 Mei 1892, 10 Mei 1892, 2 September 1892, 11 Mei 1894, 10 Julie 1894, 14 Desember 1894, 21 Desember 1894, 19 Februarie 1895, 22 Februarie 1895, 9 April 1895, 27 Augustus 1895.

Argivale materiaal 

Kaapse Argiefbewaarplek, Kaapstad (KAB)

KAB, GH10/1a: H.D. Warden – B. Maitland, 23 Maart 1846.

KAB, GH10/1b: H.D. Warden – B. Maitland, 28 Maart 1846.

Vrystaatse Argiefbewaarplek, Bloemfontein (VAB)

VAB, A534: J.R. Williams, Crown Imperial, Maart 1981.

VAB, GS183: Kapt. Albrecht – pres. Reitz, 21 Mei 1889.

VAB, GS185: I. Bisseux – goewermentsekretaris, 17 Oktober 1889.

VAB, GS186a: Kapt. Albrecht – goewermentsekretaris, 10 Desember 1889.

VAB, GS186b: Rapport van dr. J.W. Krause (distriksgeneesheer) – goewermentsekretaris, 5 Februarie 1890.

VAB, GS186c: Kapt. Hughes – goewermentsekretaris, 20 Maart 1890.

VAB, GS189a: President Brand Rifles – pres. Reitz, 18 September 1890.

VAB, GS189b: Die waarnemende landdros – goewermentsekretaris, 18 November 1890.

VAB, GS190: Kapt. Albrecht – goewermentsekretaris, 15 Januarie 1891.

VAB, PWD160: Lijst van OVS gebouwen.

VAB, PWD163: Rapport omtrent nodige reparaties aan oude Artillerie gebouwen.

VAB, UR15: 19 Januarie 1891.

VAB, VR320: Bylae tot Volksraadsnotule, 1 Maart 1889.

VAB, VR352: Rapport Artillerie, 4 Maart 1891.

 

Eindnotas

1 Vir meer oor Reitz, kyk bv. Moll (1968, verspreid).

2 Warden se spelling van die naam. Kyk KAB, GH10/1b.

3 Vir die ervarings en sienings van ’n Britse soldaat wat tydens die Britse besetting in Bloemfontein gestasioneer was, kyk Schoeman (red.) (1988, verspreid).

4 Wat betref die aankoop van kanonne deur die onderskeie presidente, kyk Onderafdeling 4.

5 Dit was die terrein tussen Aliwal-, Wes-Burger- en Zastronstraat, waar die bekende Ramblersklub in 1896 gestig is en vandag (2021) steeds voortbestaan.

6 Die gebruik van die heliograaf het tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902 ’n belangrike rol gespeel.

7 Vir tegniese besonderhede i.v.m. die kanonne, kyk bv. Crook (2006:302–3); Breytenbach (1978:94).

8 Ordonnantie No. 3, 1876: Ordonnantie, Regulatien voor het Oranjevrijstaatsch Artillerie Corps, soos aangehaal deur Swemmer 1953:189. Een pond gewig (1 lb) = 450 gram.

9 Vir meer besonderhede i.v.m. die uniforms van die Vrystaatse Staatsartillerie, kyk Walmsley (1964:143–56).

10 Vir meer besonderhede i.v.m. aanloop tot, verloop en gevolge van die Jameson-inval van Desember 1895/Januarie 1896, kyk bv. Carruthers (1996, verspreid); Du Plooy (1977, verspreid).

11 Volgens Breytenbach 1978:60 het die Diensmacht op die vooraand van die Anglo-Boereoorlog oor 81 lede beskik.

12 Geen verwysing na die President Brand Rifles kon in Breytenbach (1978) opgespoor word nie, wat daarop dui dat dié korps waarskynlik reeds teen Oktober 1899 ontbind was en moontlik by ’n ander eenheid ingelyf is.

13 Kyk in die algemeen Botes (2014, verspreid).

14 Die rol wat die Vrystaatse Staatsartillerie tydens die Anglo-Boereoorlog gespeel het, val buite die bestek van hierdie studie, maar vir meer besonderhede omtrent hul rol en lotgevalle, kyk bv. Swemmer (1953:162–9); Breytenbach (1978a:179 e.v.); Amery (red.) (1902:98); Amery (red.) (1905, verspreid); Pretorius (2010:18).

15 Vir meer besonderhede i.v.m. die aanloop tot en gebeure in die Brandwaterkom, insluitende talle regskwessies, kyk De Bruin (2009, verspreid).

16 Vir meer besonderhede i.v.m. De Wet se rol tydens die oorlog, kyk bv. De Wet (1903, verspreid); Pienaar (1974, verspreid); Pretorius (2001, verspreid); Swemmer (1953:169–75); Scholtz (2003, verspreid).

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Bloemfontein as militêre setel in die tweede helfte van die 19de eeu, met spesiale verwysing na die Reitz-tydperk, 1889–1895 appeared first on LitNet.

Burgerskap onder konstruksie: Aida en Rigoletto by die Suid-Afrikaanse Republiekfeesvieringe, 1971

$
0
0

Burgerskap onder konstruksie: Aida en Rigoletto by die Suid-Afrikaanse Republiekfeesvieringe, 1971

Juliana M. Pistorius, Universiteit Huddersfield en Universiteit Stellenbosch, en Hilde Roos, Africa Open Instituut vir Musiek, Navorsing en Innovasie, Universiteit Stellenbosch

LitNet Akademies Jaargang 18(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Ter viering van die tienjarige bestaan van die Republiek van Suid-Afrika in Mei 1971, is twee operas van Giuseppe Verdi, Aida en Rigoletto, vir Kaapse gehore op die planke gebring. Die produksies was egter vir verskillende gehore bedoel – Aida, opgevoer in die splinternuwe Nico Malan Skouburg (vandag Kunstekaap) in Kaapstad vir die wit publiek, en Rigoletto, opgevoer in die Joseph Stone Ouditorium in Athlone vir die bruin publiek. Hierdie artikel ondersoek hoe die 1971-Republiekfees ingespan is om burgerskap onder die jong nasie te bevorder en hoe hierdie twee feesproduksies die ideologiese onderbou van apartheid bevestig het. Mona Ozouf se teoretisering van openbare feeste word as lens gebruik om aan te dui hoe die Republiekfeesvieringe daarop gemik was om ’n sosiale verbond tussen die staat en sy mense te sluit, en hoe die feesvieringe die mag van die Suid-Afrikaanse staat moes illustreer. Deelname aan die geleentheid het die individu as burger herdoop, waardeur hy sy regmatige plek kon inneem as legitieme lid van die nasie. Spesiale fokus word gegee aan die opening van die Nico Malan Skouburg wat die Republiekfeesvieringe afgeskop het en die protesaksies teen die rassebeleid wat die openingsgeleentheid voorafgegaan het. Protesbriewe van skrywers soos Uys Krige en Adam Small illustreer hoe die Eoan Groep kontrasterende openbare sentimente soos simpatie en verwerping ontlont het. Tesame met ’n bespreking van die verskille tussen die Nico Malan en die Joseph Stone, word die opvoeringe van elk van die operas in die onderskeie ruimtes onder die loep geneem om te illustreer hoe die produksies uiteenlopende aspekte van Suid-Afrikaanse kulturele aspirasies verteenwoordig het. KRUIK se Aida was ’n toonbeeld van Afrikaner-eksepsionalisme terwyl Eoan se Rigoletto aanspraak gemaak het op ’n nagestrewe kulturele uitnemendheid.

Trefwoorde: Aida; burgerskap; Eoan Groep; Joseph Stone Ouditorium; Kaaplandse Raad vir die Uitvoerende Kunste (KRUIK); Nico Malan Skouburg; Republiekfees van 1971; Rigoletto

 

Abstract

Citizenship under construction: Aida and Rigoletto at the South African Republic Festival, 1971

During the celebration of the tenth anniversary of the Republic of South Africa in May 1971, two operas by Giuseppe Verdi, Aida and Rigoletto, were offered to Cape Town audiences as part of the festival programme. However, these productions were not only staged at different venues, but they were intended for different audiences – Aida, produced in the brand-new Nico Malan Theatre (today called Artscape) in the city centre was for the white public, and Rigoletto, performed in the Joseph Stone Auditorium in Athlone was for the coloured public.

This article investigates how the 1971 Republic Festival was utilized to promote citizenship among the young South African nation and how these two festival productions undergirded the ideological foundations of apartheid. Mona Ozouf’s theoretical perspective on public festivals is employed to demonstrate how the Republic Festival aimed at creating a social pact between the state and its people and how the festivities were used to illustrate the power of the South African state. Participation in such an occasion renamed the individual as a citizen of the nation and enabled her/him to take up her/his rightful place as a legitimate member of the nation. The article also draws on the historical perspectives developed by Pieter Kapp in his work on white Afrikaner Festivals. Kapp states that the Republic Festival was not only a festival for the white Afrikaner, but also for the nation of South Africa. This was evidenced by the inclusion of some English-language and other European cultural productions in the festival programme, as well as the inclusion of the coloured community at some festival productions, despite the fact that their participation was separate from white festivities.

Apart from the theoretical considerations of Ozouf and Kapp, this article relies heavily on archival resources of the Artscape Archives, the Eoan Group Archive and the National Library of South Africa. These archives include production photographs, programme booklets, newspaper articles as well as letters, scrap books and minutes. Secondary literature was also consulted. The authors of this article have both researched and published on the Eoan Group and therefore relied on some of our previous work, but we have naturally consulted further academic literature on opera, festivals, race and ethnicity.

In the Cape Peninsula two separate festivals were held, one for the coloured community, called The Republic Festival (Western Cape), and one for the white community, called The RSA10 Programme. The former was dominated by sports events, but also included cultural events such as a choir festival, exhibitions and the Eoan Group’s opera production. All events took place in and around Athlone and Wynberg. The RSA10 Programme was on a much larger scale and included military parades, an extended Western art music festival, religious ceremonies, exhibitions, youth choir festivals and theatre productions. Newspaper articles accentuated the devotional character of both programmes. The power of the state and the citizenship of the country was meant to be taken seriously, and no light-hearted entertainment was to be found. The only shared activity of the two festivals was a military march and air show that was held at Gunner’s Circle in Bellville, which concluded the festivities on 31 May.

Eoan’s participation in the Republic Festival confirmed the complex position the group held in apartheid politics. They fully embraced the socio-political status they aspired to through their love of opera, yet their uncritical engagement with the art form caught them in a political system that controlled their movement, ensnared them into a compromised citizenship, and restricted the spaces in which they were allowed to operate.

The article discusses how Verdi’s Aida fitted the bill of celebrating the dominance of Western art music at the southern tip of Africa a century after it was composed to do just that in Cairo in Egypt. In 1871 the opera was performed to celebrate the opening of the Cairo Opera House, built by the Khedive Ismail Pasha who imported European cultural values to a modernized Egypt. It is also no coincidence that the story of Aida is one of racial politics, an impossible love between the dark-skinned Aida and the light-skinned Radames, a love across the colour line that ends in death. Rigoletto on the other hand is one of a hunchbacked father who sacrifices his daughter through a bizarre misunderstanding and a curse.

Special focus is given in the article to the inauguration of the Nico Malan Theatre that started the nationwide festivities of the Republic Festival. The opening was preceded by months of protest action against the policy of racial segregation at the venue. Protest letters from writers such as Uys Krige and Adam Small illustrate how the Eoan Group generated contrasting public sentiments such as sympathy and rejection. Eoan’s years of opera production weighed heavily on the conscience of Cape Town’s (white) opera loving public who knew that this semi-professional group would not only be barred from performing in the new state-of-the-art building, but would also not be able to attend any opera productions there. A few months before the opening of the Nico Malan Theatre, Eoan’s star tenor, Joseph Gabriels, made his debut as the first South African ever to sing at the Metropolitan Opera House in New York. Newspaper editorials were similarly drawn into what seemed to be a line of defence against apartheid policies, yet Adam Small’s reply ultimately exposed underlying racial biases of white liberalism.

The difference between the Nico Malan Theatre and the Joseph Stone Auditorium was nothing short of startling and government spending was typically disproportionate of amenities afforded to the white and coloured communities at the time. No costs were spared on the building of the Nico Malan Theatre where opulence abounded, while the government’s contribution to the cost of the Joseph Stone Auditorium was literally 1% of what they paid for the Nico Malan Theatre. In closing, the performances of the two operas in the two venues illustrate how these productions embodied diverging South African cultural aspirations. CAPAB’s Aida was an example of Afrikaner exceptionalism whilst Eoan’s Rigoletto aimed at cultural excellence.

 Keywords: Aida; Cape Performing Arts Board (CAPAB); citizenship; Eoan Group; Joseph Stone Auditorium; Nico Malan Theatre; Republic Festival of 1971; Rigoletto

 

1. Inleiding

In 1971 het Suid-Afrika ’n dekade se onafhanklikheid van die Britse Kroon gedenk. Ter viering van hierdie mylpaal het die apartheidsregering ’n landswye Republiekfees gereël (Die Burger, 21 Mei 1971a), waartydens die jong nasie sy outonome identiteit en ambisies vir die toekoms kon ten toon stel. Die geleenthede waaruit die fees bestaan het, was tipies van amptelike Suid-Afrikaanse feesvieringe, wat sedert Uniewording in 1910 ’n gereelde item op die nasionale kalender geword het (Merrington 1995; Kapp 1975). Soos altyd was daar musiek, teater, optogte, uitstallings en sportbyeenkomste.

Vir Kapenaars het die 1971-Republiekfees egter saamgeval met ’n ander belangrike gebeurtenis: die inwyding van die Nico Malan Skouburg. Hierdie geleentheid het uitsonderlike luister aan die musiek- en teaterprogram van die Kaapse Republiekfees verleen. Die fees-operas is, soos die res van die gebeure, afsonderlik vir verskillende rassegroepe opgevoer. ’n Reeks aanbiedinge deur die Kaaplandse Raad vir die Uitvoerende Kunste (KRUIK) is vir wit gehore beplan, terwyl bruin operaliefhebbers opvoerings deur die Eoan Groep kon bywoon. Hierdie verdeling was nie ongewoon nie, maar die belangstelling wat deur die nuutgeboude Nico Malan geskep is, het opnuut aandag op die ongelykheid van die aanbod gevestig. Binne die konteks van die Republiekfees het hierdie omstredenheid ’n verdoemende blik gewerp op die ideologiese onderbou van die nuwe Suid-Afrikaanse nasie.

In hierdie artikel ontleed ons die 1971-Republiekfees se operaproduksies. Ons verskaf ’n oorsig van die aktiwiteite waaruit die Republiekfeesprogramme bestaan het, voordat ons die twee operas wat onderskeidelik vir wit en bruin feesgangers in aparte ruimtes aangebied is van nader bekyk. Die operas bring kwessies van ras, plek, kulturele aspirasie en politieke protes bymekaar. Daardeur gee dit insig in die volksideaal wat binne die 1971-Republiekfees nagestreef is.

Ons baseer ons ondersoek op ’n verskeidenheid argivale dokumente rakende die Republiekfees-operas, insluitend programme, persverklarings, resensies en briefwisseling. Hierdie materiaal bied insig in die operas se plek binne die Republiekfees en hoe hulle deur die publiek ontvang is. Ons interpretasie van primêre bronne inkorporeer teoretiese invalshoeke wat ontwikkel is binne die Suid-Afrikaanse en Europese kontekste (Fuller 2004; Kapp 1975; Ozouf 1988; Witz 2003). Hieronder maak ons veral staat op Ozouf se diepgaande ondersoek van republiekfeesvieringe in Revolusionêre Frankryk en Kapp se oorsigtelike studie van wit Afrikaanse volksfeeste.

Hoewel ’n verskeidenheid ander akademiese werk oor nasionale feeste binne en buite Suid-Afrika sedertdien die lig gesien het (vgl. Akuupa 2015; Hauptfleisch 2006; Kockel 2020), is Ozouf en Kapp se onderskeie tekste veral waardevol: Kapp vir sy oorsig van die ideologiese rol en samestelling van feeste binne die wit Afrikanergeskiedenis; en Ozouf vir haar indringende ontleding van die politieke doel wat regeringsgedrewe feeste binne die staatsformasie dien. Kapp se teks, wat in 1975 gepubliseer is, is verteenwoordigend van die wit Afrikanerideologie wat die era van “hoë apartheid” gekenmerk het. Dit bevat verskeie ongemaklike uitsprake rakende Suid-Afrikaanse rassegroepe en die aard van die Afrikanervolk, maar bied dalk juis om hierdie rede ’n bruikbare blik op die oorwegings wat vieringe soos die Republiekfees gedryf het.

Kapp en Ozouf is dit eens dat gemeenskaplike feeste ’n dieper betekenis het as wat op die oog af deur die kenmerkende aktiwiteite van eet, drink en saamwees gesuggereer word. Buiten die ritmes van die natuur, wat deur seisoenale feeste gevier word (Kapp 1975:8), is dit veral die mens se “gebondenheid aan die tradisies en opvattinge van sy groep”, en “die gebondenheid van die individu aan sy gemeenskap, land of volk” wat volgens Kapp deur gemeenskaplike feeste weerspieël word (1975:8). Kapp tref ’n belangrike onderskeid tussen volksfeeste en nasionale feeste: terwyl volksfeeste dit ten doel stel om ’n spesifieke volksgroep binne die breër nasionale konteks rondom ’n gemeenskaplike geskiedenis, kultuur of ideologie te verenig, is die nasionale fees gerig op al die volksgroepe waaruit ’n land bestaan (1975:142). Aangesien Kapp se teks spesifiek gerig is op volksfeeste bied hy geen verdere verduideliking vir die doel van die nasionale fees nie. Hiervoor wend ons ons tot Ozouf, en haar interpretasie van die feesvieringe rondom Frankryk se republiekwording na afloop van die Franse Rewolusie in 1799.

Volgens Ozouf (1988:9) bied regeringsgedrewe, nasionale feesvieringe die geleentheid vir die individu om herdoop te word as burger. Met ander woorde, deur deel te neem aan amptelike byeenkomste neem lede van die publiek hul regmatige plek in as erkende lede van die nasie. Sy voer aan dat die skouspelagtige viering van die nuutgebore republiek ’n geleentheid bied waarby die nuwe sosiale verband tussen burgers en hul land verwesenlik kan word. Dit is dus nie net ’n partytjie nie, maar die inhuldiging van gemeenskaplikheid – ’n ritueel wat sosiale samehorigheid aanmoedig onder die verskeidenheid individue wat binne die landsgrense as nasie byeengebring word.

In 1971 het die verbond tussen regering en landsburgers nie alle Suid-Afrikaners ingesluit nie. Die ooreenstemming tussen geografiese afbakening en nasie is dus in twyfel getrek. Hierdie breuk was ’n primêre aspek van die apartheidsideologie, wat in sy kern uiteindelik ’n stryd oor ruimte – oor spasie, plek en land – was. Met die implementering van die Groepsgebiedewet het die apartheidsbewind dit duidelik gemaak dat sekere dele van die land deel was van Suid-Afrika en ander nie; daarmee saam het sekere individue aan die Suid-Afrikaanse nasie behoort en ander nie. Volwaardige landsburgers het toegang tot volwaardige landsruimtes geniet.

Dit bring ons by die finale aspek van nasionale feesvieringe wat van belang is vir hierdie artikel: plek. As “nasie” deels bepaal word deur grense, is die afbakening van die “nasionale ruimte” noodwendig noodsaaklik in die bewerkstelliging van nasiegevoel. Die plekke waarbinne nasionale feesvieringe plaasvind, speel hierin ’n belangrike rol. Volgens N’Guessan, Lentz en Gabriel (2017:687), bied staatsfeesvieringe ’n geleentheid om die geografiese omvang van die nasie af te baken, en om binne hierdie grense aan sekere plekke seremoniële status as “ruimtes van die nasie” te skenk. Met ander woorde, die ruimte wat amptelike vieringe huisves, word as’t ware gesalf as die Republiek se heiligdom – plekke wat aan die nasie behoort en wat dit simbolies verteenwoordig. Soos ons sal sien, het die ruimtes van die 1971-Republiekfees heelwat openbaar oor die apartheidsregering se idee van homself, sy kulturele strewe en sy verhouding tot die burgery. Vir Kapp was die Suid-Afrikaanse Republiekfees beide volksfees én nasionale fees. In Ons volksfeeste beskryf hy die Republiekfees soos volg:

Republiekfees is die onafhanklikheidsfees van Suid-Afrika en moet dus as ’n voortsetting van vroeëre onafhanklikheidsfeeste gesien word. ’n Onafhanklikheidsfees is ’n landsfees wat gevier word ter herdenking van ’n bepaalde land se verwerwing van sy onafhanklikheid van een of ander oorheerser, of van sy erkenning as ’n vrye, soewereine eenheidstaat ná ’n bepaalde proses van ontwikkeling in daardie rigting. Dit is dus, in die Suid-Afrikaanse omstandighede, ’n nasionale fees waaraan alle volksgroepe deel het of kan hê of behoort te hê. […] Ten spyte van die feit dat Suid-Afrika se onafhanklikheidsfees ’n nasionale of landsfees is of behoort te wees, is dit sedert 1910 deur die Afrikaner as ’n volksfees gevier. (Kapp 1975:124)

Kapp erken wel later dat die Republiekfeeste sedert 1966 deur ’n groter nasionale gevoel gekenmerk is, namate die gedagte “gepropageer [is] dat Republiekfees ’n nasionale fees moet wees wat deur alle volksgroepe en rasse gevier word” (Kapp 1975:129). Die 1971-Republiekfees het wel kenmerke van ’n nasionale fees bevat. Dit is veral te bespeur in die fees se inkorporering van Engelse en Europese kunsvorme, en in die insluiting van bruin Suid-Afrikaners by sommige aspekte van die fees-idee. Nietemin was dit ook ’n tipiese wit Afrikanervolksfees. Die verhouding tussen die fees en die burgers – wit en bruin – wat daardeur erken is, was dus ambivalent en gekompliseerd.

 

2. Die (wit) Republiekfees

Die Republiekfeesvieringe vir die wit gemeenskap van die Kaap (ook genoem RSA10) het op Vrydagaand 21 Mei op die Kaapse Skouterrein in Goodwood afgeskop met ’n rede deur die Staatspresident Jim Fouché, ’n “credo-verspreiding” en ’n militêre optog (Die Burger, 21 Mei 1971a). Die geleentheid is deur 70 000 mense bygewoon (Die Burger, 21 Mei 1971b). In die daaropvolgende tien dae is die jong Republiek op groot skaal gevier met sportvertonings, militêre parades (insluitend vertonings deur die vloot), koorfeeste, kerkmusiek, volkspele, taptoes, ’n rolprentfees en ’n uitgebreide uitstallingsprogram wat plaaslike beeldende kuns, boeke, Bybels, geskiedenis, posseëls, blomme, diere, wyn en fotografie ten toon gestel het (Die Burger, 21 Mei 1971a). Die stigtelike aard van die feesvieringe is beklemtoon deur spesiale dankseggingsdienste “in alle kerke in die Republiek en Suidwes-Afrika” op Sondag 23 Mei (Die Burger, 21 Mei 1971a). Die uitvoerende kunsprogram waarmee die Republiek herdenk is, het hoofsaaklik Westerse klassieke musiek, ballet en toneel ingesluit en is uitgevoer deur die Kaaplandse Raad vir die Uitvoerende Kunste (KRUIK) in die spiksplinternuwe Nico Malan Skouburg. Verskeie ander plekke is egter ook vir die kunsprogram ingespan, insluitend die Kaapstadse Stadsaal, die NG Kerk Sinode Saal in Oranjestraat,1 die Hofmeyr Saal en burgersentrums in voorstede soos Parow, Milnerton, Pinelands en Bellville en op plattelandse dorpe soos Paarl en Stellenbosch. Die wit publiek kon elke dag van die feestydperk tussen 10 en 20 verskillende geleenthede bywoon (Die Burger, 21 Mei 1971a). Die fees is oor twee dae afgesluit met lofdienste, eweneens in “alle kerke in die Republiek en Suidwes-Afrika”, op Sondag 30 Mei en, op 31 Mei, ’n lugvertoning by Gunnerssirkel en ’n afsluitingstoespraak (gepaardgaande met ’n optog) deur Eerste Minister B.J. Vorster by die Kaapse Skouterrein (Die Burger, 21 Mei 1971a).

KRUIK se musiekfeesprogram het reeds in April afgeskop met 18 produksies wat oor twee maande op verskillende plekke sou plaasvind (Cape Argus, 5 Januarie 1971). Verskeie buitelandse musici en kore het deelgeneem ten spyte van die kulturele boikot wat teen Suid-Afrika in plek was.2 Die besoekende musici het onder andere die 200-sterk Keulen-mannekoor ingesluit wat vir ’n maand deur die Republiek gereis en konserte aangebied het (Die Burger, 9 Januarie 1971), die Bulgaars-gebore Franse pianis Alexis Weissenberg (wat ter elfder ure sy konserte gekanselleer het), die Spaanse flamenco-kitaarspeler Pedro Soler en die Nederlandse jazz-groep die Dutch Swing College Band (Cape Times, 3 Maart 1971). Twee sangers is ook uit Europa ingevoer om deel te neem aan KRUIK se produksie van Aida, naamlik die Italiaanse sopraan Carla Ferraro en die Spaanse tenoor Giovanni Gibin (Cape Argus, 5 Januarie 1971).

Die hoogtepunt van die uitvoerende kunsprogram was die produksies in die Nico Malan Skouburg. Vir hierdie nuwe kultuurskat is ’n reeks gesogte geleenthede beplan. Die klassieke musiekprogram het Giuseppe Verdi se opera Aida ingesluit, ’n simfoniekonsert en kamermusiek deur die Pierre de Groote-strykkwartet, en Léo Delibes se ballet, Sylvia (Die Burger, 21 Mei 1971a). Die toneelaanbiedinge was Uys Krige se Afrikaanse vertaling van Shakespeare se King Lear en ’n Engelse vertaling van die Franse toneelstuk Cher Antoine. Verskeie skole in die suidelike en noordelike voorstede in die skiereiland het toneelopvoerings aangebied en jeugkoorfeeste is in Stellenbosch, Parow en Bellville gehou (Die Burger, 21 Mei 1971a).

 

3. Die (bruin) Republiekfees

Die amptelike Republiekfees was slegs vir wit Kapenaars, maar die regering het ook voorsiening gemaak vir Republiekfeesvieringe onder die bruin gemeenskap. ’n Spesiale komitee, onder leiding van Tom Swartz, Voorsitter van die Verteenwoordigende Kleurlingraad, het ’n program met geleenthede saamgestel wat tussen 15 en 31 Mei 1971 in Athlone en ander bruin buurte gehou is. Die “Republiekfees (Wes-Kaapland)”, soos die bruin Republiekfees bekend gestaan het, het reeds op 15 Mei met rugbywedstryde by die Athlone-sportarena afgeskop, maar die program is, soos die wit Republiekfees, eers op 21 Mei amptelik geopen, toe Swartz “’n vlag, ’n vaandel en ’n credo uit die hand van die Staatspresident op die W.P. Skougronde, Goodwood ontvang het” (Verslag, Eoan Argief 39:316). Hierdie items is na die Athlone-arena vervoer, waar Swartz ’n parallelle, afsonderlike inhuldiging vir bruin feesgangers aangebied het. Reeds met die opening van die Republiekfees is die regering se ideologiese oorwegings dus uitgespel: bruinmense sou toegelaat word om deel te neem, maar slegs in hul eie buurt, en altyd onder die seggenskap van die sentrale regering. Die illusie van lidmaatskap van die Suid-Afrikaanse nasie is daardeur noukeurig bestuur.

Bruinmense kon ’n verskeidenheid geleenthede gedurende die Republiekfees (Wes-Kaapland) bywoon. Die program het grotendeels by die Athlone-sportgronde afgespeel. Hier kon feesgangers op 22 Mei ’n “groot saamtrek van jeugorganisasies” bywoon – ’n program wat aangevul is deur “vertonings van die Suid-Afrikaanse Polisie, Gevangenisdiens, en die Suid-Afrikaanse Kleurling Korps”. Op 23 en 30 Mei het Griekwa- en Kersfeeskore onderskeidelik feesprogramme aangebied, en op 26 Mei het ’n skoolprogram deur “ongeveer 6 000 leerlinge”, gekombineer met “opwindende items deur die Magte”, plaasgevind (Verslag, Eoan Argief 39:316). Die rugbywedstryde wat op 15 Mei begin is, het op 29 Mei afgesluit met “twee wedstryde daardie aand onder spreiligte”. Die sportgronde het ook uitstallings van plaaslike skole en vroue-organisasies se handwerk gehuisves (Verslag, Eoan Argief 39:316).

Buiten die geleenthede by die Athlone-arena is daar ook ’n reeks opvoerings op ander plekke aangebied. Bejaardes kon twee verskeidenheidskonserte by die Luxurama-teater in Wynberg bywoon. Die Luxurama het ook optredes deur die Suid-Afrikaanse Koorraad, die Kaapse Maleierkoor, ’n “gekombineerde Feeskoor” en die Suid-Afrikaanse Polisiediens se orkes gehuisves. Daarbenewens was dit die lokaal vir die fees se afsluitingskonsert op 31 Mei, ’n geleentheid wat deur die Staatspresident as “gas van die Kleurlinggemeenskap” bygewoon is (Verslag, Eoan Argief 39:316).

Die Luxurama was nie die enigste gasheer van musikale feesvieringe nie. Tussen 22 en 29 Mei is daar by die Joseph Stone-sentrum in Athlone ’n reeks opera- en balletvertonings, asook ’n kinderkonsert deur die Eoan Groep aangebied. Terwyl die balletkonserte en kindervertoning ’n mengelmoes van uiteenlopende items vertoon het, was die opera tipies van Eoan: ’n volledige produksie van ’n gewilde Italiaanse werk (in hierdie geval Verdi se Rigoletto), kompleet met kostuums, dekor en ’n orkes. Buiten Eoan se optredes, het die SAUK se simfonie-orkes ook een aand by die Joseph Stone gespeel.

Nes die wit Republiekfees is die Republiekfees (Wes-Kaapland) op 31 Mei 1971 afgesluit. Die finale dag se vieringe het begin met “’n skouspelagtige militêre verbymars” in Gunnerssirkel – ’n geleentheid waarvoor daar “genoeg ruimte [was] vir duisende om die vertoning te sien en gerieflike sitplekke […] vir ongeveer 500 hooggeplaastes”. Later die dag het ’n credo-seremonie, gevolg deur ’n “pragvertoning deur die Magte en ’n verbymars waarby die saluut deur mnr. Swartz voor ongeveer 40 000 toeskouers geneem is” by die Athlone-sportgronde die buitelugdeel van die fees voltrek (Verslag, Eoan Argief 39:316). Die Gunnerssirkel-mars word in beide die wit en die bruin Republiekfeesprogramme genoem. Hierdie geleentheid was dus waarskynlik die enigste aanbieding wat gelyktydig deur feesgangers van beide rasse bygewoon is.

 

4. Burgerskap en die Republiekfees

Die militêre aard van verskeie geleenthede, beide vir bruin en wit burgers, is beduidend, veral binne die konteks van ’n staat wat groeiende politieke verset vanuit alle rigtings moes weerstaan. Grootse parades deur staatsinstellings soos die weermag en die vloot is natuurlik nie ongewoon by nasionale feesvieringe nie (Fuller 2004). Sulke geleenthede vind gereeld in kontekste so uiteenlopend soos Noord-Korea en die Verenigde Koninkryk plaas. Dit is ook nie moeilik om die betekenis van sulke vertonings te interpreteer nie: elke skouspelagtige uitstalling van ’n land se sekuriteitsmagte dien as ’n propagandistiese herinnering van die staat se oorweldigende mag. Dit inspireer ontsag en maan die nasie tot gehoorsaamheid (Fuller 2004).

Binne die konteks van die Republiekfees verkry sowel die teenwoordigheid as die herhaalde voorkoms van hierdie geleenthede egter bykomende belang. “Die Magte” se verskynings by jeuggeleenthede is veral opmerklik. Terwyl die skolegroepe vertonings van jeugdige heilsaamheid gelewer het, het “die Magte” deur hul gedissiplineerde optrede ’n baie spesifieke beeld van die “aanvaarbare burger” verteenwoordig. In hierdie konteks is die lede van die sekuriteitsmagte ongetwyfeld bedoel om as ’n ideaal te dien vir die jongmense om na te streef. Sodoende kon die apartheidsregering jong Suid-Afrikaners oortuig om deel te word van die strukture wat daargestel is om hul eie mense te polisieer, sonder dat ’n enkele woord gespreek is.

Die vertoon van geïdealiseerde burgerskap in die vorm van die sekuriteitsmagte was deel van ’n breër ideologiese projek. Volgens Ozouf (1988:199–203) is die amptelike fees nie net daar om die individu te nooi om sy rol as burger te aanvaar nie, dit dien ook om hom in daardie rol op te voed. Regeringsfeeste lê dus groot klem op goeie gedrag, samewerking en eenvormigheid – die kodes wat die gemeenskap in toom hou en voorberei vir wetsgehoorsaamheid. In Suid-Afrika se amptelike feesgeskiedenis is hierdie doelwit lank reeds te bespeur. Leslie Witz se studie van die 1952-Van Riebeeck-herdenking meld byvoorbeeld die feeskomitee se beheptheid met goeie gedrag, wat aanleiding gegee het tot skrywes wat uitstippel dat orde heeltyd gehandhaaf, openbare deelname beperk, en fantasie beheer moet word sodat die “goeie tye en geleenthede” kon “rypword soos goeie vrugte” (Witz 2003:20). Amptelike feesvieringe was nie geleenthede vir karnavaleske roekeloosheid nie, maar eerder vir statige seremonie.

Kapp (1975:15) wys ook deurgaans op die stigtelike aard van Afrikanervolksfeeste, “ontdaan […] van alle ‘onwaardige’ elemente soos dans, uitbundige sang, en spontane gedrag”. ’n Belangrike rede vir hierdie ordelikheid is, volgens Kapp, toe te skryf aan die Afrikaner se Calvinistiese godsdiens. Kapp beskryf kenmerke van “die Calvinistiese samelewing” as “soberheid van uitdrukking, terughoudendheid, wantroue teenoor uitbundigheid en spontaneïteit, en verset teen die gedagte van die kuns ter wille van die kuns” – alles tipies van Afrikanervolksfeeste oor die algemeen, en ook te bespeur by die 1971-Republiekfees.

Die onmiskenbaar stigtelike aard van albei feesprogramme het die Christelik-Nasionale etos en outoritêre karakter van die apartheidsregering onderskryf. Populêre of ligte musiek het hier geen plek gehad nie, en uitspattighede is tot ’n vuurwerkvertoning beperk. Musiekgenres vir die program het dus oorwegend militêre, godsdienstige en Westerse klassieke musiek ingesluit, met die besoekende Dutch Swing College Band as enigste uitsondering. ’n Feesboodskap deur Tom Swartz wat in die Eoan Groep se gedenkprogram gedruk is, beskryf die aard van die fees soos volg:

Dit is vanjaar Republiekfeesjaar! Ons herdenk die tiende verjaarsdag van die Republiek van Suid-Afrika. Dit is ’n geleentheid wat op waardige wyse gevier behoort te word. Die Eoan-groep is by uitstek geskik om die stemming te skep wat by so ’n fees pas. (Swartz in Souwenier-program, Eoan Argief 61, oorspronklike beklemtoning)

Swartz se boodskap som die bloudruk vir die jong republiek op: hierdie Suid-Afrika is waardig en Europees, ’n nasie sterk op pad na verligte menslikheid. Die twee Republiekfees-operas, Aida en Rigoletto, het ’n belangrike rol in hierdie strewe vertolk. Opera, as toonbeeld van Westerse kulturele prestige, het die gekunstelde glans en sogenaamde beskaafdheid van wit Suid-Afrika verpersoonlik. Vogeley (1996) wys, binne die konteks van postkoloniale Meksiko, hoe opera deur ’n nuut-onafhanklike land gebruik kan word om sy eie moderniteit, kulturele vordering en kosmopolitisme te verbeeld. Dit wys aan die res van die wêreld ’n nasie van gesofistikeerde smaak, gevorderde estetika en uitnemende gedrag. Vir Suid-Afrikaners, so ver verwyder (beide geografies en polities) vanaf die sentrum van Westerse verligting, het opera dus ’n belangrike vertoonstuk gebied om te wys dat die land “byhou” by die res van die wêreld, ten spyte van sy isolasie.

Binne hierdie ideologiese oorweging het die Eoan Groep se deelname ’n gekompliseerde betekenis gekry. Swartz se aanduiding dat die Eoan Groep ongetwyfeld inpas by die nastrewe van die Suid-Afrikaans-Europese ideaal, sluit direk aan by die groep se eie beskawingsprogram. Sedert sy stigting het die Eoan Groep onomwonde erken dat hy die verkryging van “Europese kultuur” onder bruinmense voorstaan, en dat die groep se aktiwiteite daarop gemik is om lede voor te berei op Suid-Afrikaanse arbeid en burgerskap (Southern-Holt, Eoan Argief 37:300). Hierdie konserwatiewe agenda sluit nou aan by ’n neiging onder bruin politici van die begin van die 20ste eeu om kulturele aspirasie as ’n roete tot rassegelykheid voor te hou (Sandwith 2014). Volgens hierdie politici kon bruinmense ’n sosiopolitieke status gelyk aan dié van witmense bereik deur “korrek” op te tree en diepgaande kennis van Europese kulturele en intellektuele praktyke te verkry. Die Eoan Groep het hierdie bewering met oorgawe omhels: talle dokumente in die argief dui daarop dat die groep homself eksplisiet vereenselwig het met “die beter klas van mense”,3 en dat sy eie lede onderhewig gestel is aan ’n streng stel voorwaardes wat onderdanigheid, dissipline, morele suiwerheid en matigheid ingesluit het (Manca, Eoan Argief 33:225). Alle aktiwiteite was daarop gemik om die erkenning van die wit kulturele outoriteite te verdien. Die groep se aanstelling as verteenwoordigers van die stemming van die nasie se amptelike vieringe was dus niks minder nie as ’n bevestiging van die sukses van hul opvoedingsprojek.

Die insluiting van die bruin gemeenskap by regeringsgeakkrediteerde vieringe het ’n boodskap van amptelike lidmaatskap van die nasie aan bruin burgers gestuur.4 Deur bruinmense uit te nooi tot die fees het die regering hierdie spesifieke groep mense se lidmaatskap van die jong republiek bevestig. Die onderliggende boodskap was duidelik: die tien suksesvolle republiekjare het nie net aan witmense behoort nie, maar ook aan bruinmense. In teenstelling met die Franse konteks waaruit Ozouf se gevolgtrekkings spruit, dui die Suid-Afrikaanse geval egter op ’n meer ambivalente vorm van burgerskap. Bruinmense kon deelneem, maar slegs aan aparte geleenthede op aparte plekke. Soos die aanbod van feesaktiwiteite ook illustreer, is bruin burgerskap op ’n baie kleiner skaal gevier. Bruinmense se lidmaatskap van die nasie is dus beperk tot ’n afgebakende tyd en ruimte, en die grense rondom hierdie geslote konteks is streng gepolisieer.

 

5. Die Eoan Groep se Rigoletto

Argiefdokumente dui aan dat die Eoan Groep oorspronklik ’n hele operaseisoen aan die Republiekfeeskomitee voorgelê het. Voorlopige begrotings noem ’n reeks van vier verskillende operas, asook ’n “inheemse musiekblyspel” en ’n ballet (Provisional estimates, Eoan Argief 7:51). Rolverdelingslyste vir die Republiekfees wys daarop dat die operas Rigoletto, Cavalleria Rusticana, I Pagliacci en Il Barbiere di Siviglia sou wees (1971 Opera Season, Eoan Argief 28:195). Geen spesifieke titel word vir die musiekblyspel of die ballet aangedui nie; spesiale begrotings vir die libretto (R700), die koorpartye (R1 000), orkestrasie (R275), duplisering van orkespartye (R500) en tantieme vir beide die skrywer (R3 000) en die komponis (R1 000) suggereer egter dat die musiekblyspel nuut gekomponeer sou word vir die geleentheid (Provisional estimates, Eoan Argief 7:51). Die vier operas sou altesaam 24 keer opgevoer word – 15 maal voor wit gehore by die Alhambra-teater, en nege maal voor bruin gehore by die Luxurama – terwyl die musiekblyspel 22 vertonings – 11 elk vir wit en bruin gehore – sou geniet (Provisional estimates, Eoan Argief 7:51).

Figuur 1. Die voorblad van die Eoan Groep se 1971 Souwenier-program. Gepubliseer met toesteming van die Eoan Groep.

Ten spyte van hierdie ambisieuse planne, het die Eoan Groep uiteindelik slegs ses uitvoerings van Rigoletto vir die Republiekfees aangebied, en nie by die Alhambra en die Luxurama nie, maar by die Joseph Stone Ouditorium in Athlone.5 Gegewe die Joseph Stone se ligging, en die feit dat die opera deel was van die Republiekfees (Wes-Kaapland), was al ses die uitvoerings waarskynlik voor bruin gehore. Die inheemse musiekblyspel het glad nie gerealiseer nie. Geen dokumente in die Eoan Argief werp lig op die redes vir hierdie verminderde aanbod nie, maar een verklaring mag dalk met die koste van die planne te make hê: teen ’n verlies van R43 750 net vir die operaseisoen (sonder om die musiekblyspel en die ballet by te reken), was die Eoan Groep se voorstel waarskynlik nie aantreklik vir die feeskomitee nie, veral aangesien die regering uiteindelik die tekort sou moes dek (Provisional estimates, Eoan Argief 7:51). Die Republiekfees-Rigoletto was dus uit die staanspoor verteenwoordigend van ’n reeks kompromieë: dit moes instaan vir ’n hele operaseisoen voor wit gehore in die middestad.

Rigoletto was self ’n riskante keuse vir die Eoan Groep. Die geselskap se eerste uitvoerings van hierdie gewilde werk was tydens die derde operaseisoen in 1959, toe bariton Lionel Fourie die titelrol met groot sukses vertolk het (Eoan Group 1968 Opera Season, Eoan Argief 34:240). Gedurende die Eoan Groep se vierde operaseisoen en landswye toer in 1960 was Fourie weer die boggelrugnar, en resensente dwarsoor Suid-Afrika het met groot bewondering oor sy sang en toneelspel geskryf (Daily News, 2 Augustus 1960; Natal Mercury, 2 Augustus 1960; Sunday Tribune, 7 Augustus 1960; alles in Eoan Argief 30:208). Maar in 1963 is Fourie op die jong ouderdom van 38 oorlede. Op sy sterfbed het hy verklaar dat geen ander Eoan-lid ooit die rol sal vertolk waarvoor hy roem verwerf het nie – sy presiese woorde was dat niemand sy mantel sal dra nie (Roos 2018:68). Ten spyte van hierdie voorspelling is daar besluit om die opera weer in 1968 op die planke te bring. Kort voor die eerste vertoning is die Eoan Groep egter genoop om die hele operaseisoen te kanselleer as gevolg van siekte onder die sangers, en daarmee gepaardgaande onvoldoende voorbereiding. In 1969 het die geselskap sy Rigoletto-planne hervat, maar weer moes die opera gekanselleer word: in hierdie geval weens die skielike afsterwe van bariton Robert Trussell, die sanger wat die titelrol sou vertolk (Roos 2018:68). Die 1971-produksie is dus nie sonder vertwyfeling beplan nie.

Eoan se Republiekfees-Rigoletto het egter vlot verloop. Die opera het op Saterdag 22 Mei 1971 by die Joseph Stone Ouditorium geopen, met Cecil Tobin en Jacobus Erasmus beurtelings in die titelrol. Gerald Samaai en Martin Johnson het die rol van die Hertog van Mantua gedeel, en Freda Koopman en Juliana Inglis was Gilda, Rigoletto se dogter. Bas Phillip Swales het die rol van Sparafucile vertolk. Die mezzo-soprane Sophia Andrews en Judith Bailey was Maddalena, Sparafucile se suster (Souwenier-program, Eoan Argief 61). Hoewel die produksie sonder voorval verloop het, onthou sekere deelnemers wel dat hul eerste vertoning ’n onverwagse besoeker gehad het: gedurende die opera het ’n tweede, spookagtige Rigoletto glo op die verhoog verskyn – ’n dwalende gedaante wat volgens almal op Fourie getrek het. Na afloop van die opvoering het lede van die geselskap Fourie se gees ter ruste gelê deur sy kostuum te verbrand (Roos 2018:68). Daarná het Eoan nie weer Rigoletto-verwante probleme ondervind nie.

Figuur 2. Gerald Samaai as die Hertog van Mantua en Freda Koopman as Gilda in Eoan se produksie van Rigoletto. Gepubliseer met toestemming van die Eoan Groep.

Figuur 3. Ronald Theys as Rigoletto en Gerald Samaai as die Hertog van Mantua. Gepubliseer met toestemming van die Eoan Groep.

Snaaks genoeg was dit toevallig by geleentheid van die Republiekfees nie Eoan se Rigoletto wat gesondheidsprobleme ervaar het nie, maar wit KRUIK se opera, Aida.

 

6. KRUIK se Aida

KRUIK se Aida het ’n dubbele rol vervul. Die opera is nie uitsluitlik vir die Republiekfees op die planke gebring nie; inteendeel, die eintlike geleentheid waarvoor Aida beplan is, was die inwyding van die Nico Malan Skouburg op die vooraand van die Republiekfees. Op 19 Mei 1971 sou Aida by ’n glansgeleentheid die eerste vertoning op die nuutgeboude Nico Malan-verhoog word.

Suid-Afrika se gevierde sopraan, Emma Renzi, sou die hoofrol sing. Renzi was toe op die kruin van haar internasionale loopbaan, met optredes in die voorste operahuise in Europa en Amerika, insluitend La Scala in Milaan (Gramophone 1999). Renzi se Italiaanse aspirasies was opvallend: gebore as Emmarentia Scheepers (in 1926), het sy die verhoognaam Emma Renzi aangeneem, ’n naam byna identies aan die Italiaanse sopraan Anna Renzi (ca. 1620–61) vir wie Claudio Monteverdi, die vader van Italiaanse opera, die sopraanrolle van sy operas gekomponeer het (Walker en Glixon 2001). Emma Renzi se deelname aan die inwyding van Suid-Afrika se waardevolste kultuurskat het dus die land se Europese strewe onderskryf.

Figuur 4. Emma Renzi as Aida in KRUIK se Republiekfeesproduksie van Verdi se Aida. Hoewel die produksie vir die opening van die Nico Malan Skouburg ter elfder ure gekanselleer is, is dit wel vir die duur van Republiekfees op die planke gebring. Gepubliseer met toestemming van die Artscape Argief.

Kort voor die opening op 19 Mei, het KRUIK se planne vir die viering van die nuwe skouburg en die volwassewording van die (wit) Republiek egter ’n ironiese wending geneem: Renzi het onverwags siek geword, en Aida is ter elfder ure aan die program onttrek (Cape Argus, 20 Mei 1971). Pleks van Verdi se liefdestragedie, moes Léo Delibes se ballet Sylvia (gekomponeer in 1876) vir die geleentheid diens doen.6 Soos Aida, vertel Sylvia ook ’n storie van liefde, verraad en oorwinning op die slagveld. Maar in stede van die eksplisiet-nasionalistiese onderbou waardeur Aida gekenmerk word, fokus Sylvia op die wel en wee van die Griekse gode Apollo, Artemis, Zeus en Eros (Royal Opera House 2010).

Alhoewel Aida uiteindelik nie die Nico Malan kon inwy nie, bly KRUIK (en sy meester, die Nasionale Party) se besluit om hierdie opera in te span vir die geleentheid beduidend: die opera se verhaal en konteks suggereer dat die keuse van Aida vir so ’n simbolies belangrike oomblik in die geskiedenis van sowel die Republiek as van Westerse kunsmusiek in Suid-Afrika, beslis nie arbitrêr was nie. Hierdie opera het presies ’n eeu vantevore, in 1871, sy première in Kaïro in Egipte gehad, toe dit die land se eerste operahuis, die Khedivial (of koninklike) Operahuis ingewy het (Gauthier en MacFarlane-Harris 2012:58). (Alhoewel die operahuis reeds in 1869 in gebruik geneem is,7 het die skouspel van Aida, as amptelike inwyding, op 24 Desember 1871 plaasgevind.) Die Khedivial Operahuis is deur Khedive Ismail Pasha (1830–95) gebou. Khedive Ismail, soos historiese bronne na hom verwys, was ’n gebore Egiptenaar, maar het as gesant van die Ottomaanse Ryk oor Egipte regeer. Sy lewensmissie, geïnspireer deur sy eie Europese opvoeding, was om die land te moderniseer. Ter verwesenliking van sy ideaal het hy enorme bedrae geld spandeer aan openbare infrastruktuur en die invoer van Westerse kulturele waardes soos orde en rasionaliteit. Westerse kunsvorme soos opera het ’n sentrale rol in die vestiging van Ismail se geïdealiseerde Europese waardesisteem gespeel. Die bou van die operahuis het dus ’n ideologiese doel gedien, een wat onderskryf is deur die opdrag vir die inwydingsopera aan Giuseppe Verdi, Europa se voorste operakomponis, te gee (Gauthier en MacFarlane-Harris 2012:58).

Die feit dat Aida, ’n kroonjuweel van die Europese klassieke repertorium, gekomponeer is vir die inwyding van ’n operahuis aan die noordelike punt van Afrika en dat die verhaal van die opera in Afrika afspeel, het dit uiteraard ’n ideale keuse gemaak vir die opening van die Nico Malan. Cecil John Rhodes se ambisie om ’n spoorlyn van die Kaap na Kaïro te bou het hier ’n metaforiese vergestalting gekry deur die vestiging van operahuise in beide stede, wat aan mekaar verbind is deur ’n Westerse kulturele uitvoerproduk: Verdi se Aida. Die feit dat die opening van ’n operahuis aan die suidpunt van die kontinent sou saamval met die eenhonderdjarige herdenking van die werk, was waarskynlik ’n meevaller.8

Aida se storie is op die oog af ’n liefdestragedie, kenmerkend van die vele ietwat geïdealiseerde romantiese verhale van Italiaanse opera uit die laat-Romantiek. Verskuil agter die liefdesdrama lê egter ’n verhaal van kolonisering en rassepolitiek, wat afspeel teen die agtergrond van Egipte se heerskappy oor die Soedan in daardie tyd. Dit is op hierdie vlak dat die vergelyking met Suid-Afrika se nasionalistiese regering en sy apartheidsideologie onmiskenbaar raak.

Kortliks loop die verhaal van Aida soos volg: Aida, die dogter van die Etiopiese koning Amonasro, is deur Egiptiese magte gevange geneem en dien nou as slaaf vir Amneris, die dogter van die Egiptiese koning. Aida én Amneris is albei verlief op Radames, die Egiptiese bevelvoerder wat die Etiopiërs verower en Amonasro en sy manskappe as krygsgevangenes na Egipte terugvoer. As beloning ontvang Radames vir Amneris as bruid, maar hy is verlief op Aida. Radames pleit by die koning om die krygsgevangenes se lewens te spaar en sy versoek word toegestaan. Radames en Aida probeer in die geheim vlug, maar word deur Amneris ontmasker en albei sterf uiteindelik in gevangenskap (Gauthier en MarFarlane-Harris 2012).

Figuur 5. Die Italiaanse tenoor Giovanni Gibin in die rol van Radames. Gepubliseer met toestemming van die Artscape Argief.

Figuur 6. ’n Danstoneel uit die Republiekfeesproduksie van Verdi se Aida. Gepubliseer met toestemming van die Artscape Argief.

Koloniale agendas is op verskeie vlakke in hierdie opera teenwoordig. Edward Said dui in sy baanbrekers- postkoloniale werk aan hoe die verhaal van Aida meer te make het met Verdi se verbeelding (en dus ’n Europese verbeelding) van Egipte, as wat dit die werklike Egiptiese kultuur of belewenis uitgebeeld het (Said 1994:111–31). Said toon ook aan hoe die komponis, as die gesaghebbende figuur in die skeppingsproses van die opera, met Egipte kon maak soos hy goed gedink het, sonder om Egiptenare en hul kultuur in ag te neem (Gauthier en MacFarlane-Harris 2012:57). Dit is treffend hoe Suid-Afrika se Nasionale Party, en die wit publiek, eweneens hul land en sy inheemse bevolking polities en kultureel gekoloniseer het en, as skeppers van die Republiek, dit nie nodig geag het om die inheemse bevolking in ag te neem nie.

Die opening van die operahuis in Kaïro, en die feit dat Khedive Ismail Europa se bekendste operakomponis kon vra om ’n opera vir die openingsgeleentheid te komponeer, was deel van ’n groeiende Egiptiese nasionalisme. Aida het Egipte se strewe tot selfregering weerspieël.9 Die gelyksoortige doelstellings van die 1971-Republiekfees in Suid-Afrika is geen toeval nie. Egipte het egter onder Khedive Ismail ook sy eie koloniale strewes uitgeleef. As die lang arm van die Ottomaanse Ryk, het Egipte sy suidelike buurland die Soedan vanaf 1821 tot 1884 oorheers en Khedive Ismail het gereeld troepe na die Soedan gestuur om rebellies te onderdruk (Gauthier en MacFarlane-Harris 2012:58). Die Soedan het destyds uit ’n versameling prinsdomme bestaan en die verowering en lot van een so ’n prinsdom (weliswaar ’n Etiopiese prinsdom) is presies die verhaal van Aida. Die keuse om Egipte se koloniale suksesse as agtergrond tot die liefdesverhaal van die opera te gebruik, was dan ook Khedive Ismail se keuse en nie Verdi sʼn nie (Powell soos aangehaal in Gauthier en MacFarlane-Harris 2012:62).

Behalwe vir die koloniale oorheersing van etniese minderhede in die Soedan, is Aida egter ook ’n verhaal van rassepolitiek. Egiptenare was lig van velkleur en het neergesien op die donkerder velkleur van die Etiopiërs. Die Egiptiese ingenieur en administrateur aan Khedive Ismail se sy, Âlî Mubârak, het die Soedan en die res van Afrika beskryf as “’n landskap van barbaarsheid” (Powell soos aangehaal in Gauthier en MacFarlane-Harris 2012:62). Mubârak het ook gemeen dat Egipte se status in die wêreld afgehang het van die ontdekking en kolonialisering van streke in Afrika, en dat donker (m.a.w. swart) Afrikane primitief was met kulture en tale wat maklik deur Westerlinge ontsyfer kon word (Powell soos aangehaal in Gauthier en MacFarlane-Harris 2012:62). Aida is dus ook ’n verhaal wat aanvoer dat liefde oor die kleurgrens gedoem is tot die dood en ondergeskik is aan die ideaal van die (wit) nasie.10

 

7. Die Nico Malan Skouburg

Die ooreenstemming tussen Aida se oorspronklike nasionalistiese agenda en die strewes van die nuwe Suid-Afrikaanse republiek is duidelik. Soos die Khedivial Operahuis, was die Nico Malan van simboliese belang vir die Suid-Afrikaanse regering. Die nuwe fasiliteit was Suid-Afrika se eerste moderne teaterkompleks. Dit het ’n groot hupstoot gebied vir die infrastruktuur wat nodig was vir die stabilisering en professionalisering van klassieke Westerse kunsvorme, en vir die eerste keer het die Kaapse kunsgemeenskap toegang gehad tot moderne verhoogtegnologie. Die Skouburg was ’n skouspelagtige vertoonstuk van Suid-Afrikaanse argitektuur en ingenieurswese. Boonop het dit as bewys gedien van die vestiging van ’n robuuste en vooruitstrewende Westerse beskawing aan die suidpunt van Afrika. Die kompleks het bestaan uit ’n 1 200-sitplek-operahuis met omvangryke verhoogmoontlikhede, twee kleiner teaters en uitgebreide oefenlokale en agterverhoogfasiliteite. Die grootskaalse oopplanvoorportaal van etlike verdiepings hoog is met luukse tapyte uitgevoer, afgerond met imposante kroonkandelare en tapisserieë. Te midde van hierdie weelde kon teatergangers drankies en versnaperinge geniet. Die R11,5 miljoen-pryskaartjie11 is deur die nasionale regering gedelg en die nuutdrooggelegde grond aan die hawekant van die middestad is deur die Kaapstadse munisipaliteit geskenk (Blanckenberg 2009:36–8). Ten spyte van die plaaslike en nasionale regering se aandrang dat die Nico Malan ’n reuse- politieke en kulturele aanwins vir die land was, is die Skouburg egter met verdeeldheid begroet. Soos planne vir die nuwe kompleks bekend gemaak is, het die Kaapse kunsgemeenskap stelselmatig ongemaklik geraak met die projek, en veral met die Skouburg se rassebeleid.

Ingevolge apartheidswetgewing, is die Nico Malan uit die staanspoor deur die Nasionale Party-regering tot ’n slegs-wit gebou verklaar waar Indiërs, bruin- en swart mense nie toegelaat sou word om produksies by te woon of daaraan deel te neem nie.12 Vir die destydse polities bedeesde kunsgemeenskap in die Kaap, was hierdie kwessie ’n groot kwelling. In die maande voor die inwyding was die Skouburg dikwels in die nuus in artikels wat die tegniese moontlikhede van die nuwe teaters bespreek het, en die debat oor die rassebeleid is deur politici, kunstenaars en die publiek in vele meningstukke aangeroer (Cape Times, 11 Februarie 1971; Cape Times, 27 Februarie 1971; Krige 1971; Cape Times, 20 Mei 1971). Dit het aanleiding gegee tot ongekende protes, insluitend ’n uitgerekte boikotveldtog, agter-die-skerms-pogings om die rassebeleid vir die Nico Malan te verander, en protesoptogte in Kaapse strate deur skoolkinders, studente en die Black Sash-vrouebeweging (Cape Argus, 20 Mei 1971; Cape Times, 20 Mei 1971). Hierdie berigte en debatte het die tameletjie waarin die plaaslike kunsgemeenskap hulle bevind het duidelik geïllustreer. Aan die een kant het die nuwe gebou professionele en moderne fasiliteite aan ’n sukkelende bedryf gebied, maar aan die ander kant was die uitsluit van kunstenaars en publiek van ander rasse (vir sommiges ten minste) ’n diep gekompromitteerde posisie.

Figuur 7. Die Nico Malan Skouburg in 1971. Gepubliseer met toestemming van die Artscape Argief.

Beriggewing uit die tyd illustreer dat die apartheidsregering hulle min aan die protes gesteur het en dat enige verslapping van die rassebeleid vir die Nico Malan nooit ernstig oorweeg is nie (Skouburg: N.P. Standpunt, 1971). In antwoord daarop het die protesaksies teen die beleid oorgespoel in demonstrasies tydens die swierige inwyding van die Skouburg. Hierdie geleentheid is met groot vertoon en deftigheid gevier. Die 1 200 genooide (wit) gaste het Staatspresident Jim Fouché en Eerste Minister John Vorster ingesluit, asook ’n uitgebreide diplomatieke korps, politici van uiteenlopende oortuiginge en vooraanstaande kunstenaars. Maar terwyl die uitverkore hooggeplaastes binne-in die gebou gepronk het, het betogers hul baniere met slagspreuke soos “Never have so many paid for so few”, “They’ve built it, helped pay for it but may not use it” en “Culture knows no colour bar” in die strate rondom die gebou opgestel (Cape Argus, 20 Mei 1971; Cape Times, 20 Mei 1971). Engelse koerante het breedvoerig oor die “glitter and dissent” (Cape Argus, 20 Mei 1971) rondom die inwyding gerapporteer.

Op die dag van die inwyding het die Cape Times ’n hoofartikel geplaas wat die debakel opgesom het as “an operatic tragedy” (Cape Times, 19 Mei 1971). Alhoewel die gebou geprys is as bewys dat Suid-Afrika darem ’n waardige buitepos van die Weste was, is die rassebeleid betreur. Die operaproduksies van die bruin operageselskap, die Eoan Groep, waarvan Kaapse gehore reeds sedert die 1950’s geniet het, is in verskeie meningstukke aangespreek (sien onder andere Cape Times, 27 Februarie 1971, Cape Times, 15 Maart 1971, Die Burger, 19 Mei 1971). Eoan het duidelik swaar op die gewetes van Kaapse operaliefhebbers gerus. Buiten die groep se vele opvoerings in die Kaapstadse Stadsaal, het Eoan se bekendste tenoor, Joseph Gabriels, net ’n paar maande vroeër, in Februarie 1971, sy debuut in die Metropolitan Operahuis in New York gemaak. Die gebeurtenis is met trots in plaaslike koerante vermeld (Joseph Gabriels Scrapbook, Eoan Argief) en die ironie dat Gabriels onder die rassebeleid nie in die Nico Malan sou kon optree nie, was olie op die vuur van die boikotbeweging (The Star, 12 Maart 1971).

Die skrywer Uys Krige, wie se Afrikaanse vertaling van King Lear op die feesprogram was, het hom tot die Engelse pers gewend om sy griewe te lug (Cape Times, 15 Maart 1971). Sy bydrae het veral gefokus op die feit dat die Eoan Groep self ’n belangrike rol gespeel het in die vestiging van ’n Kaapstadse operakultuur: “We owe the Eoan Group more than we can repay them in a month of gala openings”, skryf hy. “Are they now to be neglected, rejected? To be forbidden entry to our fine new Opera House either as valued and honoured performing artists or as welcome members of an enthusiastic audience? Would this not be a supreme example of what we Afrikaners call so aptly stank vir dank?” (Krige 1971).

Die redakteur van die Cape Times het Eoan se bydrae tot opera oor die jare soos volg opgesom: “Culturally the non-White contribution has been direct and spectacular. The Eoan Group has given this city the opportunity to see and hear live opera beyond the scope of anything which could have been achieved in Pretoria” (Cape Times, 19 Mei 1971). Sy verskanste rassevooroordele is egter in dieselfde asem aan die kaak gestel toe hy kwalifiseer watter soort bruinmense volgens hom aanvaarbaar sou wees om die Nico Malan te besoek:

There might be some, who assess our coloured people in terms of drunken farm labourers, who will feel that today a powerful blow has been struck for White purity. But how many opera-goers and theatre-lovers who would like to go to the Nico Malan, have the slightest objection to sharing the occasion with a Dr. Richard van der Ross, a Mr. Tom Swartz, a Mr. Adam Small, a Basil D’Oliviera or a coloured gentleman from the Transvaal who passes for white. What a pity that what could have been a monument to South African culture and technology should be written down as a monument to White South African meanness. (Cape Times, 19 Mei 1971)

Tien dae later publiseer die Cape Times ’n brief van die digter Adam Small in antwoord op bogenoemde berig (Small 1971). As ’n enkele reaksie uit die bruin gemeenskap op die rassebeleid in die Nico Malan is hierdie openbare verweer ’n treffende illustrasie van die frustrasie, bitterheid en woede wat baie bruinmense onder apartheid ervaar het, ten spyte van die goed bedoelde wit liberale pleidooie. Die brief illustreer Small se politieke aanvoeling, sy bewussyn van die medepligtigheid van witmense wat onder apartheid simpatiek teenoor die bruin gemeenskap gestaan het, en sy bedenkinge ten opsigte van die Eoan Groep. Hy skryf:

I suppose that, as always its intention was good; its sentiments, however, were rotten, as rotten as the mass of White South African sentiment of the “sympathetic” sort (towards non-Whites) can be. Your [editor] goes on and on and, in well-known fashion, gives the Coloureds a pat on the back. You mention the famous “non-White contribution” [to opera], recognition of which, in the matter of this farce of the Opera House, would secure for South Africa the position of the true cultural “outpost of the Western world”! (Is colonialism, really, not yet over?)

You mention the Eoan Group (still singing Italian opera, I see, while, in so far that they are Coloured, they should be singing indigenous protest); you compare Cape Town’s liberal tradition with Pretoria’s wickedness (as if Cape Town’s liberal tradition ever existed beyond the level of rather nice master-and-servant relationships); and you go on even to pat me on the back. […] May I ask you not to take my name in vain? For, you see, the truth is that someone like myself feels sorry for the mass of White South Africans whose will lies behind this Opera House farce and this mass includes the bulk of the Opera House “boycotters”. You have no need to speak on our (Coloured) behalf. The time for Coloureds to “look up at” Whites and to aspire to White status is over. (Small 1971)

Hierdie polemiek bring aspekte van bruin identiteit en verset onder apartheid na vore. Dit bevraagteken die “goeie bedoelinge” van wit liberaliste, illustreer dat nie almal in die bruin gemeenskap noodwendig die Eoan Groep ondersteun het nie, en ontmasker die koloniale konstruksie van identiteit onder die wit gemeenskap.

Small se verwysing na die Eoan Groep en hul polities bedenklike posisie binne die Kaapse kultuurlewe, werp ’n skerp blik op die teenstrydige strewes wat bruin kunstenaars se werk gekenmerk het. Terwyl Small homself in direkte teenstand tot die wit kulturati uitgedruk het, het die Eoan Groep hulself met hierdie sosiale groep vereenselwig. Vir Small sou die Eoan Groep se optrede by die Nico Malan dus slegs ’n verdere bevestiging van bruin ondergeskiktheid aan apartheidsideaal verteenwoordig. Hy het homself sterk daarteen (en teen enige verdere aanname dat die bruin intelligentsia na wit goedkeuring smag) uitgespreek. Daarenteen het die Eoan Groep hulself op die oog af nie veel aan die Nico Malan-omstredenheid gesteur nie.

 

8. Eoan en die Nico Malan

Die bou van die Nico Malan het etlike probleme vir die Eoan Groep geskep. In 1972, kort ná die inwyding van die Nico, het die Kaapstadse munisipaliteit besluit om die Stadsaal te restoureer. Tot in daardie stadium was die Stadsaal die enigste fasiliteit in die middestad waarbinne die groep hul operas voor wit en bruin gehore kon opvoer. Maar die beplande opknapping het die Stadsaal tot sy oorspronklike gedaante herstel; dit het beteken dat fasiliteite vir operaproduksie soos beligting, gordyne en proscenium verwyder is, met die gevolg dat die ruimte nie meer geskik was vir opera-aanbiedings nie (Sydow 1973, Eoan Argief 17:117). Die munisipaliteit se redenasie was dat die stad nou oor ’n moderne operafasiliteit beskik in die vorm van die Nico Malan, en dat die Stadsaal dus nie meer vir hierdie kunsvorm ingerig hoef te wees nie (Sydow 1973, Eoan Argief 17:117). Die feit dat bruin kunstenaars nie toegelaat is om in die Nico Malan op te tree nie het duidelik nie die stadsbeplanners geskeel nie. Dit is moeilik om hierdie ongeërgdheid te lees as enigiets anders as ’n stilswyende vermaning dat opera in elk geval nie bruin kuns is nie. Die gevolg van die restourasie van die Stadsaal was dat die Eoan Groep nie meer toegang tot ’n operafasiliteit in die middestad gehad het nie. Dit het aanleiding gegee tot verdere kulturele afsondering wat uiteindelik bygedra het tot die groep se ondergang. Ons bespreek hierdie punt meer breedvoerig in afdeling 9.

Ten spyte van die rassebeleid van die Nico Malan, bevat die Eoan Argief geen betekenisvolle aanduidings dat die groep ooit protes daarteen aangeteken het nie. Slegs een dokument, ’n brief van die groep se voorsitter, Ismail Sydow, aan die redakteur van die Cape Times, verwys met spyt na die feit dat die Eoan Groep nie toegelaat sou word om in die Nico Malan op te tree nie (Sydow 1970, Eoan Argief 42:338). Sydow skryf in sy brief dat hy die geleentheid gehad het om ’n toer van die nuwe teater te onderneem, en dat hy voorwaar beïndruk is deur die voortreflike fasiliteite. Maar hy beskryf ook sy verdriet by die besef dat slegs een groep Suid-Afrikaners die voordele van hierdie gebou sou kon geniet:

[A]s I stood watching the tiers of seats a sad picture came to my mind that, at the opening and subsequent performances, only one section of our community will, in all its elegance, mount the steps leading to this magnificent foyer and enter the portals of “our theatre”. I pray that the authorities will permit the Eoan Group to perform in the Nico Malan theatre to all members of our community. Is it too late to consider this request that together with our white brothers and sisters we too may share the pride and happiness in witnessing the many splendid presentations which will take place in this much desired theatre? (Sydow 1970, Eoan Argief 42:338)

Sydow se brief druk die leed uit wat na verwagting deur die hele Eoan Groep gevoel is. Maar dit vestig geen aandag op die ongelyke voorsiening wat deur die regering vir bruin opera gemaak is nie, en gee ook geen misnoeë te kenne met die onreg van die sisteem nie. Eerder as ’n protesbrief, is Sydow se skrywe ’n uiting van droefheid.

Geen verdere verwysings na die Nico Malan se rassebeleid kom in die Eoan Argief voor nie. Groeplede het dalk, soos met ander aspekte van die regering se rassediskriminasie, bloot hul skouers opgetrek en aangegaan met die werk wat wel vir hulle moontlik was. So ’n houding sluit nou aan by die groep se apolitiese beleid (Eoan Group constitution, Eoan Argief 5:32). Talle dokumente (vgl. bv. Minutes 1965, Eoan Argief 37:300) en uitsprake van voormalige lede (Eoan History Project 2013:52) dui op ’n oortuiging onder Eoan-lede en -personeel dat die musiek bo die politiek verhewe is, al het die Nico Malan se toegangsbeleid bewys dat dit bloot nie die geval was nie.

 

9. Die Joseph Stone

Ten spyte van die Nico Malan se rassebeleid, was die Eoan Groep nie heeltemal haweloos nie. Terwyl KRUIK die fasiliteite van die nuutgeboude Skouburg kon geniet, het Eoan sy bedrywighede by die Joseph Stone-sentrum in Athlone voortgesit. Hierdie kompleks was, soos die Nico Malan, ’n produk van regeringsbeleid. Maar die omstandighede rondom die Joseph Stone se oprigting het ’n heel ander weergawe van apartheid-Suid-Afrika se kulturele strewe vertel. Die geskiedenis van die Joseph Stone wys op die diepgaande ongelykheid waarmee wit en bruin kunstenaarskap deur die apartheidsregering bestuur is.

Met die ontruiming van Distrik Ses in 1966, het die Eoan Groep hul hoofkwartier – die Isaac Ochberg Saal in Hanoverstraat – verloor (Minutes 1965, Eoan Argief 1:3). Saam met ander voormalige Distrik Ses-inwoners is die groep na die Kaapse Vlakte uitgeskuif, waar hulle ’n nuwe tuiste in die Eoan Group Cultural Centre (vandag die Joseph Stone Ouditorium) op die Klipfonteinpad in Athlone gevind het. Soos die Nico Malan is die Joseph Stone gebou op eiendom wat deur die Kaapstadse munisipaliteit geskenk is (Minutes 1965, Eoan Argief 1:3). Weens die bepalings van die Groepsgebiedewet het die sentrum noodgedwonge die spilpunt van die groep se werksaamhede geword. Dit het al Eoan se administratiewe, opvoedkundige en voorbereidingsaktiwiteite gehuisves, en was ook die ruimte vir opera-uitvoerings voor bruin gehore ná die gebou se inwyding in 1969.

Figuur 8. Die Joseph Stone Ouditorium in 1971. Gepubliseer met toestemming van Revel Fox Argitekte.

Die koste vir die oprigting van die gebou het R287,000 beloop. R167,000 hiervan is deur die groep self ingesamel, terwyl die nasionale regering R120,000 bygedra het (Minutes 1969, Eoan Argief 25:178). Die gedeelte wat die groep self bymekaar gemaak het, het bestaan uit fondse wat van die staat ontvang is as skadevergoeding vir die verlies van die Ochberg Saal in Distrik Ses, ’n donasie van die Bernard van Leer Stigting in Nederland en ’n donasie van ene Joseph Stone, na wie die gebou vernoem is. As mens die koste van die Nico Malan met dié van die Joseph Stone vergelyk, ontbloot dit gou die leuen van sogenaamde “aparte maar gelyke” ontwikkeling wat deur die apartheidsideologie voorgehou is. Die regeringsbydrae tot die Joseph Stone was ’n skamele 1% van die bedrag wat aan die Nico Malan bestee is. Boonop moes die groep meer as die helfte van die boukoste op eie houtjie insamel. Die fasiliteite was natuurlik heelwat kleiner en geensins vergelykbaar met die Nico Malan nie.

Buiten die reusewanverhouding met betrekking tot finansies en infrastruktuur, het die ligging van die Joseph Stone ook ’n belangrike rol gespeel in die sentrum se ondergeskiktheid aan die Nico Malan. Die Nico Malan is uit die staanspoor só ontwerp dat dit maklik bereikbaar sou wees vanaf die middestad en omliggende gebiede. Daarteenoor was die Joseph Stone in ’n tipe kulturele woestyngebied geleë – ver van die lewendige middelpunt van Kaapstad se musikale en teateraktiwiteite, en buite maklike bereik van gehore met besteebare inkomste. Wit ondersteuners en resensente moes aansoek doen vir spesiale permitte om die groep se vertonings in die bruin gebied van Athlone by te woon, en selfs bruin gehore het gesukkel om by die Joseph Stone uit te kom, as gevolg van die verspreiding van die bruin gemeenskap tussen verskillende buurte en die hoë koste van vervoer. Die nuwe gebou het dus ’n eksistensiële koste vir die Eoan Groep ingehou: die gedwonge verwydering uit hul plek in die sentrum van Kaapstad se kunsmusiekarena.

’n Voorlegging deur Sydow aan die Erika Theron Kommissie van Ondersoek na Aangeleenthede Rakende die Kleurlingbevolkingsgroep (1973–76) beskryf hierdie probleme soos volg:

[T]he musical section […] at one time, had a central venue and was close to public transport. Now, with the centre at Athlone, Eoan Group members have to catch trains and sometimes two or three buses to bring them from the outlying housing schemes to Athlone. These heavy costs of transport are a great drain on members of the Coloured Community with the ever rising cost of living. (Sydow, 12. Other Matters, Eoan Argief 23:169)

In dieselfde voorlegging stel Sydow ’n oplossing vir hierdie liggingsprobleem voor. Hy wys uit dat die meerderheid bruin teatergangers in Wynberg woon, en dat die voorstad ideaal geleë is, aangesien dit meer sentraal lê as enige van die ander bruin buurte. Boonop bevat Wynberg reeds ’n teater, naamlik die Luxurama. Vir Sydow (en vir Joseph Manca, die Eoan Groep se direkteur) was die oplossing dus voor die hand liggend:

Both Dr. Manca and myself have always felt that the best area for a proper theatre for our people is in Wynberg where the majority of the theatre-going people live. We strongly recommend that the Luxurama is the most ideal theatre if the stage, dressing-rooms, orchestral pit etc. are re-built to suit the requirements of any big production. The area is very respectable and it is most central, being close to trains, buses and other forms of public transport. (Sydow, 12. Other Matters, Eoan Argief 23:169)

Sydow en Manca se voorstel is byna aandoenlik oor die naïwiteit waarmee dit ’n duur opknappingsprogram aan die regering voorlê. Maar dit is ook insiggewend: eerstens wys die versoek presies hoe desperaat die groep was om hul omstandighede te verbeter en weer eens deel te word van ’n aktiewe kultuurgemeenskap. Tweedens onthul Sydow en Manca se plan ’n diepgaande vertroue in die apartheidsisteem – hulle het werklik geglo dat die regering die bruin gemeenskap se belange op die hart dra.

Die infrastrukturele en geografiese bekommernisse wat hier bo beskryf is, verduidelik ook waarom die Eoan Groep hul Republiekfees-operas by die Luxurama en die Alhambra wou aanbied, ten spyte van die verskeidenheid addisionele finansiële en logistieke bekommernisse wat daardeur geskep sou word. Veral aangesien die regering verantwoordelik sou wees vir addisionele kostes (soos huur en vervoer) kon die groep planne maak sonder om hulself te veel aan die begroting te steur – ’n benadering wat uiteindelik die hele projek in die wiele gery het. Op die ou end het Rigoletto gely onder gedwonge isolasie: terwyl gans Kaapstad elke kleinste besonderheid oor die Nico Malan se eerste produksies gedurende die Republiekfees kon raaklees, het nie ’n enkele persadvertensie of resensie van Eoan se Rigoletto verskyn nie.

 

10. Gevolgtrekking: Die ruimtes van die Republiekfees

Gegewe die politieke onderstrominge van die laat 1960’s en vroeë 1970’s het die ruimtes waarbinne die fees-operas opgevoer is ’n belangrike ideologiese rol gespeel. Dit was die era van “hoë apartheid”, waartydens die regering die ideologie van “aparte ontwikkeling” tot sy uiterste gevoer het deur middel van die stigting van nedersettings (Bantustans) waarheen swart Suid-Afrikaners verplaas is onder die voorwendsel van politieke onafhanklikheid en selfverwesenliking. Soos die grense van die nasie (en die land) verskuif het, was die afbakening van die Suid-Afrikaanse nasionale ruimte noodsaaklik.

Dit was ook ’n tydperk van enorme politieke verset vanuit alle hoeke, nie net plaaslik nie, maar ook internasionaal (Beinart en Dubow 2013:15–6). Die regering was onder groot druk om te bewys dat die ideaal van “apart dog gelyk” deurgevoer word, en dat dit suksesvol is. Die operas, in hul aparte teaters voor aparte gehore, het deel gevorm van hierdie diplomatieke waanbeeld. Deur middel van hul inkorporering in die Republiekfees is die Nico Malan én die Joseph Stone as amptelike sentra van die Suid-Afrikaanse nasie ingelyf. Daar is dus gepoog om aan buitestanders te wys dat bruin burgers wel ’n eie plek binne die nasie geniet.

Die staat, deur sy amptelike omvang te strek tot in Athlone, het die bruin gemeenskap buite die stadsentrum by sy grense ingesluit. Hy het eienaarskap van die Joseph Stone en die kulturele aktiwiteite daarbinne geneem, en dit gebruik as ’n bewys dat die bruin bevolking ook toegang tot kulturele selfverwesenliking geniet, en dat hulle nie deur die Nico Malan (of die Luxurama) hóéf verteenwoordig te word nie. Solank die staat die Joseph Stone erken het as een van sy amptelike ruimtes, het dit immers beteken dat bruinmense wat uitgesluit is van stadsvieringe steeds ook toegang kon geniet tot die Republiek se heiligdom. Sodoende is ’n illusie van gelyke erkenning en lidmaatskap geskep – ’n illusie wat op sy beurt gebruik kon word om hierdie deel van die gemeenskap aan die ideologiese bepalings van die sentrale owerheid onderhewig te stel. Agter die kleurvolle en melodieuse skouspel van wit en bruin kunstenaars, elk in hul eie plek voor hul eie mense, het brutale ongelykhede en beperkings geskuil.

Historici is dit eens dat amptelike feesvieringe tipies van outoritêre state is (Guss 2000; Ozouf 1988; Rossol 2010). Feeste is nie net belangrik vir nasiebou nie; dit bied ook geleentheid om die amptelike ruimtes van die staat uit te wys en te inkorporeer. Wie genooi word, watter aktiwiteite aangebied word en waar dit plaasvind, werk alles saam om die karakter van die ideale nasie te vorm. Sodoende word amptelike feeste ’n spilpunt vir kwessies van identiteit en geografie binne staatsideologie.

Die 1971-Republiekfees het ’n burgery verwelkom wat nie beperk was tot die wit Afrikanervolk nie, om daardeur te wys dat die apartheidsbestel nie beperk was tot die Afrikaner nie. Terselfdertyd het die fees egter die wit Afrikanerideaal vergestalt, deurdat dit die Afrikanervolkskarakter voorop gestel het, veral in die fokus op waardigheid en goeie gedrag. Die volkspele en koorsang dui ook op ’n eg-Afrikaanse onderbou, terwyl die godsdienstige seremonies en toesprake belangrik was om die geskiedenis van die volk te gedenk – ’n geskiedenis wat gekenmerk is deur “stryd, swaarkry, vernedering en oorwinning” (Kapp 1975:22) en een waarin die Calvinisme, as beide morele kompas en bron van geestelike krag, ’n sentrale rol gespeel het.

Die herdenking van die tienjarige bestaan van die Republiek was ’n geleentheid vir die Afrikaner om homself te staal teen die aanslae van vyandige agente deur terug te dink aan sy verlede van struweling en oorwinning. As ’n nasionale fees, was die Republiekfees egter ook ’n geleentheid vir die regering om sy verbond met (’n verkose groep) landsburgers te hernu, om die individue wat aan die Suid-Afrikaanse nasie behoort te maan tot lojaliteit en gehoorsaamheid en om aan die wêreld te wys dat apartheid wérk.

Die twee operareekse, met hul uiteenlopende gehore, teaters en vlakke van aansien, onthul die komplekse (en altyd teenstrydige) onderbou van die geïdealiseerde Suid-Afrikaanse republiek. KRUIK se Aida was ’n toonbeeld van Afrikanereksepsionalisme; Eoan se Rigoletto het aanspraak gemaak op ’n ambisie van kulturele uitnemendheid. Albei operas het egter ook die wankelrigheid van die selfverwesenlikingsprojek verteenwoordig: net soos die Nico Malan se onvervulde Aida die oortuiging van godgegewe uitsonderlikheid ondermyn het, het Eoan se mislukte Republiekfeesplanne die groep se illusie van sy eie status binne die nasie verbrokkel.

Mens kan slegs spekuleer oor Eoan-lede se reaksies teenoor die Nico Malan se rassebeleid. Wat wel duidelik is, is dat die groep nie amptelik aan enige van die twee protespartye behoort het nie: hulle het nie saam met liberale wit teatergangers in die strate betoog nie, en enige boikotaktiwiteit was in elk geval ontersaaklik, aangesien hulle volgens wet nie die teater mag betree het nie. Maar hulle het ook nie saam met Adam Small uitgevaar teen wit simpatie en bruin kulturele aspirasie nie. Terwyl Small, in sy brief, homself sterk uitspreek teen die sogenaamde beskawingsprogram wat deur bruin deelname aan wit kultuur verteenwoordig is, het die Eoan Groep vas geglo aan die potensiaal vir selfverwesenliking deur kulturele strewe. Small se uitsprake suggereer dat hy nie toegang tot die Nico Malan vir bruinmense begeer het nie. Sydow, in teenstelling, het geglo dat opera in die Nico Malan aan die Eoan Groep kulturele gelykheid sou skenk. Opera by die Joseph Stone, daarenteen, was byna onsigbaar. Die wanbalans in mediabelangstelling in die twee teaters se Republiekfeesgeleenthede dien as bewys hiervan.

Dit is juis sulke ambisieuse oorwegings wat soveel struweling tussen Adam Small en die Nico Malan-kritici veroorsaak het. Die Cape Times se redakteursbrief, waarin daar verwys word na die feit dat mense soos Richard van der Ross, Tom Swartz, Adam Small en Basil D’Oliveira verwelkom behoort te word binne die Nico Malan, maak dit duidelik dat wit erkenning onderhewig was aan ’n sekere vlak van sosiale en kulturele prestige. Van der Ross, Swartz, Small en D’Oliviera was almal suksesvolle en uitgelese mense volgens wit standaarde – hul beeld as gekultiveerde en gesofistikeerde lede van die samelewing het dus ’n tipe “ontrassing” tot gevolg gehad, waardeur hulle ononderskeibaar van witmense geword het.13 Vir Small lê hierdie kommentaar die dubbele standaarde van wit liberale nierassigheid bloot. Dit bepleit ’n gelykheid wat self op eksklusiwiteit gebaseer is, en ondergrawe die menswaardigheid van diegene wat nie aan hierdie kulturele standaarde voldoen nie. Die nasie word hierdeur onthul as ’n beperkte begrip met hoë voorwaardes vir lidmaatskap.

Small se brief wys daarop dat hy verkies het om homself vanuit hierdie pseudo-inklusiewe nasie te verwyder. Hy wou nie deel wees van ’n volk wat hom slegs erken het solank hy “amper-wit” was nie. Sy vermaning aan die Eoan Groep dat hulle nie behoort Italiaanse opera te sing nie, maar eerder “inheemse protes”, is deel van hierdie verwerping van dubbele standaarde. Op die oog af blyk Small ’n tipe kulturele determinisme te bepleit met sy aandrang dat bruinmense inheemse protesliedere behoort te sing. Die stelling suggereer dat hy daaraan glo dat elke ras ’n unieke kulturele wese besit en dat Italiaanse opera beslis nie deel van die bruin essensie uitmaak nie. So ’n oorweging neig gevaarlik skerp in die rigting van die apartheidsregering se eie beleid van aparte ontwikkeling. Maar Small se aandrang op protes-liedere, eerder as enige inheemse liedere, dui daarop dat dit nie ’n vorm van kulturele apartheid is wat hy in gedagte het nie. Sy aandrang op protesliedere is eerder daarop gemik om die geïdealiseerde nasie te verwerp en daarvan afstand te doen, aangesien enige persoon wat aan sulke vorme van (onbetaamlike) musikale uitdrukking deelneem noodwendig outomaties vanuit die nasiestruktuur verwyder sou word.

Daarteenoor het die Eoan Groep hulself aan die beperkte bloudruk vir lidmaatskap van die jong Suid-Afrikaanse Republiek onderwerp. Hoe hoër die standaarde gestel is, hoe harder het hulle gewerk om dit te bereik. Hul deelname aan die Republiekfees was nie net ’n skouspel van hul eie musikale vermoëns nie, maar ook ’n onvervulde aanspraak op amptelike erkenning en burgerskap.

 

Bibliografie

Gepubliseerde bronne

Akuupa, M. 2015. National culture in post-apartheid Namibia: state-sponsored cultural festivals and their histories. Basel: Basler Afrika Bibliographien.

André, N., K.M. Bryan en E. Saylor (reds.). 2012. Blackness in opera. Urbana, Chicago en Springfield: University of Illinois Press.

André, N. 2018. Black opera – history, power, engagement. Urbana, Chicago en Springfield: University of Illinois Press.

Beinart, W. en S. Dubow (reds.). 2013. Segregation and apartheid in twentieth-century South Africa. Londen: Routledge.

Blanckenberg, E. 2009. The music activities of the Cape Performing Arts Board (CAPAB): a historical survey. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Elliott, R. 2016. Blacks and blackface at the opera. In Ingraham e.a. (reds.) 2016:34–49.

Eoan History Project. 2013. Eoan – our story. Johannesburg: Fourthwall Books.

Fuller, L.K. 2004. National days/national ways: historical, political, and religious celebrations around the world. Westport CT: Praeger Publishing.

Gauthier, C. en J. MacFarlane-Harris. 2012. Nationalism, racial difference and “Egyptian meaning” in Verdi’s Aida. In André e.a. (reds.) 2012:55–77.

Gramophone. 1999. Review: Emma Renzi – A Tribute. https://www.gramophone.co.uk/review/emma-renzi-a-tribute (28 Mei 2020 geraadpleeg).

Guss, D.M. 2000. The festive state: Race, ethnicity, and nationalism as cultural performance. Berkeley: University of California Press.

Hauptfleisch, T. 2006. Eventifying identity: Festivals in South Africa and the search for cultural identity. New Theatre Quarterly, 22(2):181–98.

Ingraham, M.I., J.K. So en R. Moodley (reds.). 2016. Opera in a multicultural world: coloniality, culture, performance. Abingdon: Routledge.

Kapp, P.H. 1975. Ons volksfeeste. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.

Kockel, U. 2020. Heritage and festivals in Europe: performing identities. Abingdon: Routledge.

Merrington, P. 1995. Pageantry and primitivism: Dorothea Fairbridge and the “Aesthetics of Union”. Journal of Southern African Studies, 21(4):642–56.

N’Guessan, K., C. Lentz en M-C. Gabriel. 2017. Performing the national territory: the geography of National-Day celebrations. Nations and Nationalism, 23(4):686–706.

Ozouf, M. 1988. Festivals and the French Revolution. Cambridge, MA: Harvard University Press.

Roos, H. 2018. The La Traviata affair: opera in the age of apartheid. Berkeley: University of California Press.

Rossol, N. 2010. Performing the nation: sports, spectacles, and aesthetics in Germany, 1926−1936. Central European History, 43:616–38.

Royal Opera House. 2010. Sylvia, ballet in three acts (gedenkprogram). Londen: Royal Opera House.

Said, E. 1994. Culture and imperialism. New York: Vintage Books.

Sandwith, C. 2014. World of letters: reading communities and cultural debates in early apartheid South Africa. Pietermaritzburg: University of KwaZulu-Natal Press.

Siegfried, D. 2016. Aporias of the cultural boycott: Anti-Apartheid Movement, ANC and the conflict surrounding Paul Simon’s album Graceland (1985–1988). Zeithistorische Forschungen/Studies in Contemporary History, 13:2–26.

Turner, K.M. 2015. Class, race, and uplift in the opera house: Theorore Drury and his company cross the color line. Journal of Musicological Research, 34(4):320–51.

Vogeley, N. 1996. Italian opera in early national Mexico. Modern Language Quarterly, 57(2):279–88.

Walker, T. en B. Glixon. 2001. Renzi, Anna. In Grove Music Online. https://doi-org.libaccess.hud.ac.uk/10.1093/gmo/9781561592630.article.23212 (10 September 2020 geraadpleeg).

Witz, L. 2003. Apartheid’s festival: contesting South Africa’s national pasts. Bloomington: Indiana University Press.

 

Argivale bronne

Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika

Cape Argus. 20 Mei 1971. Glitter and dissent at “Nico” opening.

Cape Times. 11 Februarie 1971. Opera House red herrings.

Cape Times. 27 Februarie 1971. Gabriels: Is the road now clear for Capab to act?

Cape Times. 15 Maart 1971. In protest against Opera House Ban.

Cape Times. 19 Mei 1971. An Operatic Tragedy.

Cape Times. 20 Mei 1971. More against opera ban on non-Whites.

Die Burger. 10 Februarie 1971. Skouburg: N.P.-Standpunt.

Die Burger. 19 Mei 1971. Nico Malan: dit is ’n Groot Ideaal.

Die Burger. 21 Mei 1971a. Republiek Fees Program.

Die Burger. 21 Mei 1971b. Die Fees begin nou lewe.

Die Burger. 24 Mei 1971. Puik opvoering van Aida.

Krige, U. 15 Maart 1971. In protest against opera house ban. Cape Times.

Mouton, F. 22 Mei 1971. “Tekenprent”, Die Burger.

Small, A. 28 Mei 1971. Rotten sentiments on Opera House. Cape Times.

The Star. 12 Maart 1971. The plot of the opera.

Arstcape Argief

Cape Argus. 5 Januarie 1971. Capab plans 18 concerts for Republic Festival. KRUIK Plakboek (Algemeen) Desember 1970−Mei 1971, Artscape Argief.

Cape Times. 3 Maart 1971. CAPAB Music Festival continues! Artscape Plakboek.

Die Burger. 9 Januarie 1971. Reuse koor na S.A. vir Republiekfees. Artscape Plakboek.

Cape Argus. 26 Januarie 1971. Economics of a segregated opera. Artscape Plakboek.

Eoan Argief

1971 Opera season, Republic Festival: Barbiere di Siviglia cast list. 28:195.

1971 Opera season, Republic Festival: Cavalleria Rusticana cast list. 28:195.

1971 Opera season, Republic Festival: Pagliacci cast list. 28:195.

1971 Opera season, Republic Festival: Rigoletto cast list. 28:195.

Daily News. 2 Augustus 1960. Baritone gives great performance in Verdi’s Rigoletto. 30:208.

Eoan Group 1968 opera season, proud record of opera presentations since 1956. 34:240.

Eoan Group constitution as amended in 1970 and 1976. 5:32.

Fresh distinction for S.A. tenor. Datum en bron onbekend. Joseph Gabriels Scrapbook.

Gabriels in fine voice as S.A. Caruso. Datum en bron onbekend. Joseph Gabriels Scrapbook.

Gabriels wins praise. Datum en bron onbekend. Joseph Gabriels Scrapbook.

Joey triumphs at New York Met debut. Datum en bron onbekend. Joseph Gabriels Scrapbook.

Manca, J. 1973. Brief aan P. Richardson, 19 Mei. 16:116.

Manca, J. Brief aan lede: “I have pleasure in advising you that you have been selected as a member of the NEW EOAN GROUP CHOIR”, ongedateerd. 33:225.

Minutes of Special General Meeting. 9 November 1965. 37:300.

Minutes of the 32nd annual general meeting held on 29th September 1966 in the Banqueting Hall, City Hall, Cape Town. 1966. 1:3.

Minutes of the special general meeting held on 26 August 1969. 1969. 25:178.

Natal Mercury. 2 Augustus 1960. Eoan cast’s Rigoletto delights audience. 30:208.

Provisional estimates of income and expenditure: presentation of “opera season” (4 operas) for 1971 Republic Festival. 7:51.

Provisional estimates of income and expenditure: presentation of an “indigenous musical” for 1971 Republic Festival. 7:51.

Republiekfees 1971: Souwenier-program. 61.

Southern-Holt, H. 1947. Brief outline of Eoan’s dramatic, dancing and musical activities – Meeting of the National Council of Women of South Africa, 11 September. 37:300.

Suid-Afrika se eie Caruso! Datum en bron onbekend. Joseph Gabriels Scrapbook.

Sunday Tribune, 7 Augustus 1960. It was magnificent, Mr. Manca: Come again. 30:208.

Sydow, I. 12. Other matters: Re “Guidelines for memoranda on cultural matters”. Datum onbekend. 23:169.

Sydow, I. 1970. Brief aan die Redakteur van die Cape Times, 3 Desember. 42:338.

Sydow, I. 1973. Chairman’s report to be submitted to the Eoan Group’s executive committee at its meeting on Wednesday 31 January 1973. 17:117.

Triumph for tenor Joseph Gabriels. Datum en bron onbekend. Joseph Gabriels Scrapbook.

Verslag: Republiekfees (Wes-Kaapland) 1971. 39:316.

 

Eindnotas:

1 Hierdie gebou is intussen afgebreek en die 15 On Orange Hotel staan vandag op die perseel.

2 Die kulturele boikot is in 1954 deur Trevor Huddleston afgekondig, en in 1981 deur die Verenigde Nasies as amptelike beleid aanvaar. Sien Siegfried (2016) vir meer inligting.

3 “The better type of person”, soos in ’n brief van Manca aan P. Richardson, 19 Mei 1973, Eoan Argief, 16:116.

4 Die swart bevolking blyk grootliks uitgesluit te gewees het van die Kaapse 1971-Republiekfeesvieringe. Geen verwysinge na deelname is in enige verslaggewing in koerante of navorsing oor die Republiekfees gevind nie.

5 Die vier operas is wel later, in Oktober 1971, gedurende die Eoan Groep se negende operaseisoen opgevoer. Sien Roos (2018:206–8) vir meer inligting.

6 Aida is egter wel daarna vier keer opgevoer as deel van die Republiekfeesprogram.

7 As gevolg van die Pruisiese oorlog in Europa, kon Verdi nie betyds die opera lewer nie. Die Khedivial Operahuis moes toe staatmaak op ’n bestaande opera van Verdi, Rigoletto, vir die eerste uitvoering in 1869.

8 Dit is ironies dat die Khedivial Operahuis in dieselfde jaar (op 28 Oktober 1971) deur ’n brand verwoes is. Vandag is daar ’n parkeerterrein op die perseel.

9 Egipte is egter ’n dekade later, in 1882, deur Brittanje gekoloniseer.

10 In produksies van Aida is die Etiopiese rolle van Aida en haar pa Amonasro tot onlangs meesal in “blackface” aangebied, die kontroversiële gebruik waar witmense se gesigte donker gegrimeer word om ’n persoon met ’n donker velkleur uit te beeld. “Blackface” het sy ontstaan in Amerika as ’n historiese praktyk waar dit gebruik is om die spot met Afro-Amerikaners te dryf en die gebruik is nog tot onlangs onbeskaamd en onbevraagteken deur operageselskappe wêreldwyd toegepas. In 1971 het operahuise oor die algemeen hulle min aan die problematiek hier rondom gesteur, en vir die KRUIK-produksie was sowel Emma Renzi (as Aida) as Hans van Heerden (as Amonasro) in “blackface” (Mouton 1971). Die ironie dat bekwame Eoan-sangers soos die sopraan May Abrahamse en tenoor Joseph Gabriels beskikbaar sou wees om hierdie rolle te sing, verleen ’n ekstra dimensie aan die absurditeit van die Skouburg se beleid om slegs wit sangers te gebruik. Sien Naomi André se 2018-publikasie Black opera, veral hoofstuk 1, vir ’n meer breedvoerige bespreking van “blackface” in opera.

11 In huidige terme is dit ongeveer R500 miljoen.

12 Alle rasse is wel toegelaat om deel te neem aan die konstruksie van die gebou, of om laer geskoolde arbeid te doen soos onderhoud, skoonmaakwerk en tegniese werk agter die verhoog.

13 Ons ontleen hierdie begrip aan Turner (2015:347) wat verwys na ’n “‘whiting’ effect that the act of singing European works had on [critics’] perceptions of [black] performers”.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Burgerskap onder konstruksie: <i>Aida</i> en <i>Rigoletto</i> by die Suid-Afrikaanse Republiekfeesvieringe, 1971 appeared first on LitNet.

Die gebruik van spelifiëring (“gamification”) as hulpmiddel vir woordeskatuitbreiding in ’n taakgebaseerde onderrigprogram vir taalverwerwingstudente

$
0
0

Die gebruik van spelifiëring1 (“gamification”) as hulpmiddel vir woordeskatuitbreiding in ’n taakgebaseerde onderrigprogram vir taalverwerwingstudente2

Petronella Genis, Vakgroep Afrikaans, Universiteit van Namibië en
Elbie Adendorff, Departement Afrikaans en Nederlands, Lettere en Sosiale Wetenskappe, Universiteit Stellenbosch

LitNet Akademies Jaargang 18(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Ons lewer in hierdie artikel verslag van ’n breë studie wat onderneem is om die gebruik van taalspeletjies met Afrikaanstaalverwerwingstudente te ondersoek. Spelifiëring (ons Afrikaanse woord vir “gamification”) in onderrig is in ’n mate nog omstrede, aangesien baie opvoeders onseker is oor wat dit presies behels en of dit pedagogiese waarde tot onderrig kan toevoeg. In die hedendaagse omstandighede, waar tradisionele kontakonderrig toenemend onder druk geplaas word, en leerkragte alternatiewe moontlikhede moet betrek, is spelifiëring ’n opsie wat oorweeg kan word. Ons ondersoek die volgende navorsingsvraag: Hoe kan taalspeletjies as deel van ’n taakgebaseerde onderrigprogram taalverwerwingstudente help om hulle Afrikaanse woordeskat uit te brei?

Vir dié navorsing onderneem ons ’n literatuuroorsig oor die affektiewefilterhipotese, akademiese emosies en die taakgebaseerde benadering. Larsen-Freeman en Anderson (2011) steun op Krashen (1982) se affektiewefilterhipotese wanneer hulle sê dat ’n lae affektiewe filter, lae angs en ’n atmosfeer wat selfvertroue aanmoedig ’n voorwaarde vir taalverwerwing is. Csikszentmihalyi (1990, 2003 en 2014) se vloeiteorie verduidelik die balans tussen die uitdagingsvlak en die vaardigheidsvlak wat nodig is vir optimale leer, en dat enige wanbalans tussen hierdie twee vlakke aanleiding tot óf angs óf verveeldheid gee, wat albei leer belemmer. Spelifiëring is een metode wat gebruik kan word om die middeweg van vloei te bewerkstellig.

Ons bespreek in die artikel die resultate van die empiriese navorsing wat aan die Universiteit van Namibië (UNAM) onderneem is. Die instrumente wat vir die gemengdemetode-ondersoek gebruik is, behels ’n vraelys vir dosente wat vreemde tale onderrig, reflektiewe vraelyste vir studente wat aan die ondersoek deelgeneem het, sowel as voor- en natoetse, wat woordeskatkennis en die emosionele toestand van die studente betrek het. Vier dosente van UNAM het die vraelys voltooi en uit die kwantitatiewe en kwalitatiewe data is dit duidelik dat spelifiëring ’n nuttige hulpmiddel in taalverwerwing is.

Die studentedeelnemers is opgedeel in ’n kontrolegroep van agt lede en ’n proefgroep van tien lede. Beide groepe het woordeskatonderrig oor vyf temas ontvang. Die lesse het in alle opsigte ooreengestem, behalwe wat betref die taakfase van die proefgroep wat gespelifieer is, met ander woorde daar is in elk van die vyf woordeskatlesse ’n taalspeletjie gebruik. Die hoofbevinding was dat die proefgroep se woordeskat met gemiddeld 14% meer gegroei het as die kontrolegroep s’n. Beide groepe het emosioneel positief gereageer op die interaktiewe en inklusiewe taakgebaseerde onderrigbenadering. 

Trefwoorde: Afrikaanstaalverwerwing; akademiese angs; akademiese emosies; akademiese verveeldheid; spelifieer; spelifiëring; taakgebaseerde leer-en-onderrig-program; taalspeletjies; vloeiteorie; woordeskatontwikkeling; woordeskatuitbreiding

 

Abstract

The use of gamification as a tool for vocabulary enhancement in a task-based programme for language acquisition classes

The aim of the study discussed in this article is to relay the findings of a study done on the use of language games with Afrikaans language acquisition students at the University of Namibia (UNAM). The broader study, of which only a part is recorded in the article, focused on gamification in Afrikaans second language acquisition for university students.

The use of gamification in second language acquisition is a contentious issue, as many teachers in this field are unsure as to what is meant by it and how it can be used in language acquisition teaching. They are also unsure whether it has any pedagogic value in the teaching and learning of second and/or foreign languages.

In the contemporary situation in education today, where traditional teaching methods are under pressure and seen as outdated, a new approach is necessary. Teachers need to look for alternative teaching methods and gamification might be a good option to consider. The broader study examined the combination of a task-based approach and gamification to test whether it enhances the vocabulary learning of university students learning Afrikaans at UNAM.

Designing language games as task-based activities for university students can prove challenging for language teachers. One such a challenge is the lack of academic research on this in the language acquisition field. There is also a lack of research on Afrikaans language acquisition and gamification. The research question that we have tried to answer in the article is: How can language games in a task-based teaching approach help language acquisition students to improve their Afrikaans vocabulary?

In the article we specifically discuss an empirical study undertaken at the University of Namibia. Therefore, in the first place, the education situation in Namibia is discussed, followed by background information on the Afrikaans modules at UNAM. According to Genis (2020) the Namibian Basic Education Department demands learners to take two languages: English (because it is the official language) as well as any other one of the 16 national languages.

Afrikaans is still a widely spoken language in Namibia. Students who have passed Afrikaans in grade 12 and who want to pursue further studies in Afrikaans must enrol for the module Afrikaans Studies at UNAM, while other students (who did not take Afrikaans) must enrol for Afrikaans as Applied and Business Language. In the latter module, vocabulary learning is particularly important.

We then focus on gamification in the article as games can be used to teach and learn vocabulary. Nick Pelling coined the term gamification in 2002, defining it as “applying game-like accelerated user interface design to make electronic transactions both enjoyable and fast” (Burke 2014:5). Marczewski (2013:4) describes gamification as “the application of gaming metaphors to real life tasks to influence Behaviour, improve Motivation and enhance Engagement”. Uberman (1998:21) writes: “Games encourage, entertain, teach, and promote fluency. If not for any of these reasons, they should be used just because they help students see beauty in a foreign language and not just problems that at times seem overwhelming.” We agree with this statement of Uberman. While there are two Afrikaans terms for gamification, i.e. spelifikasie and verpretting, Genis (2020) coined a new Afrikaans word: spelifiëring. This is explained in the article.

We then undertake a literary review which focuses on academic emotions and the task-based approach. Through a qualitative research approach, various key factors are identified and discussed.

The first theoretical framework used in this article is Krashen’s (1982) second language acquisition theory. Krashen’s theory on the affective filter (1982) is of relevance to the study, since it theorises that language acquisition is influenced by a variety of factors, including motivation, confidence, and anxiety. Larsen-Freeman and Anderson (2011) rely on Krashen’s affective filter when they state that a combination of a low affective filter, low anxiety and an atmosphere which encourages self-motivation is a perquisition for successful language acquisition.

Our second theoretical approach is task-based teaching and learning. The task-based approach is a pedagogic framework for teaching and researching second and/or foreign languages. For this article we used the task-based framework for class methodology. The three stages of pre-task, task cycle and post-task form the framework of our five task-based language teaching lessons.

The third important theoretical consideration is academic emotion. The flow theory of Csikszentmihalyi (1990, 2003 and 2014) is discussed. It explains the balance between the challenge level and the proficiency or skills level necessary for optimal learning. Any imbalance between these two levels leads to academic anxiety or academic boredom – both of which obstruct learning. Gamification is one method which can lower the affective filter, and which can be used as an effective tool to bridge the gap between the challenge and the proficiency of learners. Regarding academic emotions, the works of Pekrun, Goetz, Titz and Perry (2002), Pekrun (2006) and Ketonen (2007) are discussed as they are extremely relevant to the topic of language acquisition and academic emotions. Furthermore, the studies undertaken by Acee, Kim, Kim, Kim, Chu, Kim, Cho and Wicker (2010), Daschmann, Goetz and Stupnisky (2011) and Schrader and Nett (2018) are discussed in relation to language acquisition and the role of academic emotions.

In the second part of our article, an empirical study undertaken at UNAM is explained. The study used participatory action research with a mixed-method approach. The following instruments were used: a questionnaire for lecturers teaching a foreign language at UNAM, a reflective questionnaire completed by the participants in the study, and pre- and post-tests which tested the vocabulary and the emotional state of the participants. Five task-based lessons were used.

The participants in the study were four university lecturers and eighteen students. The four foreign language lecturers completed the questionnaire and, from the qualitative and quantitative data, it is clear that gamification is an especially useful tool to be used for vocabulary teaching.

The students were divided into two groups: a control group of eight and an experimental group of ten. The task-based lessons were the same, but the experimental group used games in the task phase of the lesson, while the control group used traditional vocabulary methods (for example repetition and vocabulary lists). The main finding is that the vocabulary of the students in the experimental group improved by 14% more than that of the students in the control group. Both groups reacted positively to an interactive and inclusive task-based learning and teaching approach.

Through research it was established that gamification can most likely be used to succeed in learning the vocabulary of a foreign and/or second language. Finally, we concluded that gamification is a useful tool and teaching method, that it can be beneficial to university students by helping them to learn vocabulary, and that it assists and supports the language acquisition process.

Keywords: Afrikaans language acquisition; academic anxiety; academic boredom; academic emotions; flow theory; gamification; gamify; language games; task-based learning and teaching programme; vocabulary development; vocabulary enhancement

 

1. Inleiding

Woordeskatuitbreiding is ’n kernbelangrike deel van taalverwerwing,3 want ’n gebrekkige woordeskat beperk suksesvolle kommunikasie, aldus Alqahtani (2015:22).

Effektiewe taalverwerwing vind nie plaas deur die blote aanhoor van ’n dosent se lesing nie, maar verg aktiewe deelname van die student, soos reeds in 1913 deur John Dewey, die vader van die konstruktivisme,4 vermeld is: “Students are actively involved in constructing their own knowledge through experience and problem solving” (Larsen-Freeman en Anderson 2011:239). Hierdie ervaring en probleemoplossing word in die tweedetaalverwerwingsklas5 vergestalt met die gebruik van take, soos uiteengesit in die taakgebaseerde onderrigbenadering. ’n Taak moet betekenisvol wees en ’n spesifieke uitkoms hê en kan byvoorbeeld die vorm van ’n taalspeletjie aanneem.

Die taak bied ’n geleentheid aan die studente om aktief deel te neem wanneer hulle taal aanwend ten einde die verlangde uitkoms te verkry, maar die moeilikheidsgraad van die taak kan volgens Dhir (2016) na gelang van die vaardigheidsvlak van die student moontlik lei tot akademiese verveeldheid of akademiese angs. Sigurðardóttir (2010:7) voer aan dat speletjies in die taalklas ’n uiters belangrike hulpmiddel is ten einde studente, óók diegene wat geneig is om onaktief te wees, betrokke te kry in die klas: “Keeping students active is vital because teachers will never be able to actually teach students anything unless they can get them to participate in their own learning process.” Dit word ondersteun deur Harvey en Jarrett (2014) se navorsing.

In hierdie artikel bespreek ons die gebruik van taalspeletjies in ’n Afrikaanstaalverwerwingsklas aan die Universiteit van Namibië (UNAM). Ons verskaf eerstens kortliks inligting oor die posisie van Afrikaans in Namibië en aan UNAM voordat ons die terme spelifieer en spelifiëring en die pedagogiese waarde van taalspeletjies bespreek. Daarna bespreek ons kortliks die teoretiese agtergrond van die studie, naamlik die affektiewefilterhipotese van Krashen (1982), die taakgebaseerde benadering en akademiese emosies. Daarna volg die resultate van ’n empiriese ondersoek wat met Afrikaanstaalverwerwingstudente, asook dosente wat vreemde tale onderrig, gedoen is.

 

2. Agtergrondinligting oor Afrikaans aan UNAM

Volgens Genis (2020:12) is een van die kwelpunte in UNAM se Vakgroep Afrikaans dat die universiteit voorsiening kan maak vir slegs twee teikengroepe om Afrikaans te neem, terwyl daar studente is wat nie presies in die bestaande twee groepe val nie en ideaal gesproke in ’n tussengroep sou kon wees. Weens hulpbronbeperkings, insluitend finansies en personeel, is dit nie lewensvatbaar nie, en moet die Vakgroep Afrikaans so bes moontlik met die twee bestaande bane in die behoefte voorsien. Die eerste teikengroep is die studente wat tot in graad 12 Afrikaans as skoolvak geneem het, en met minstens ’n D-simbool op hoër graad of ’n C-simbool op standaardgraad6 geslaag het. Hierdie groep studente neem modules in die baan Afrikaanse Studies. Die tweede teikengroep is studente wat Afrikaans as nuwe taal aanleer. Hulle neem modules in die baan Afrikaans as Toegepaste en Besigheidstaal. Geen studente wat Afrikaans in graad 12 geneem het, selfs as tweede taal,7 word toegelaat om vir hierdie baan te registreer nie. Dit gebeur wel dat daar studente is wat in laer skoolgrade Afrikaans geneem het en dan vir die module kan registreer, hoewel hulle nie, soos van hulle klasmaats, vreemdetaalsprekers8 in die ware sin van die woord is nie.

Die Namibiese skoolstelsel vereis volgens Genis (2020:13) dat leerders twee tale tot op matriekvlak moet neem. Een van hierdie tale is Engels, Namibië se enigste amptelike taal. Die tweede taal kan enige van die ander 16 nasionale tale wees. Weens ’n gebrek aan goedgekwalifiseerde taalonderwysers in baie van die nasionale tale is Afrikaans gereeld die verstektaal wat leerders saam met Engels neem. Daarom gebeur dit dat ’n student wat nie Afrikaans tot in matriek geneem het nie dit wel in die laer grade as skoolvak kon gehad het.

Hoewel geen van die Namibiese tale, met die uitsondering van Engels, normaalweg in amptelike skriftelike dokumente gebruik word nie, is gesproke Afrikaans steeds baie algemeen. Dit lei daartoe dat studente in die taalverwerwingsklas wat nooit op skool Afrikaans as vak gehad het nie dit soms tog in ’n mindere of meerdere mate kan verstaan as gevolg van die blootstelling aan gesproke Afrikaans. Die lees van Afrikaans, en veral die skryf van Afrikaans, is vir hulle moeilik (Genis 2020:13). Daarteenoor is daar studente, hoofsaaklik afkomstig van die verre noorde van Namibië, wat geen blootstelling aan Afrikaans gehad het nie en dus met hulle aankoms in Windhoek in die ware sin van die woord nultaalsprekers9 van Afrikaans is. Dit is ook die geval met studente wat afkomstig is van byvoorbeeld Zambië en Zimbabwe.

Die universiteit bied nie ’n derde baan nie en daarom moet die studente wat voorheen kennis van Afrikaans opgedoen het en dié wat as nultaalsprekers begin, saam in een klas sit. Dit lei daartoe dat die dosent moet probeer om ’n balans te handhaaf om nie die nultaalsprekers akademies te oorweldig nie, maar om ook nie die ander studente akademies te verveel nie (Genis 2020:14).

Net soos daar by UNAM studente van verskillende taalvaardigheidsvlakke is, word soortgelyke klagtes geopper deur die Afrikaansonderwysers wat die jaarlikse kongres van die Professionele Vereniging van Afrikaans-taalonderrig in Namibië (PVATN)10 in Maart in Windhoek bywoon. Tydens die kongres poog die aanbieders om soveel moontlik hulp en raad aan die onderwysers te verleen om hulle taak in die Afrikaansklas te vergemaklik, aangesien Namibië nie meer oor vakadviseurs vir Afrikaans beskik nie (Genis 2020:14).

’n Spesifieke probleem wat toenemend in die Namibiese skole voorkom, is dat daar leerders in die Afrikaanstweedetaalklas is wat geen vorige blootstelling aan Afrikaans gehad het nie. Dit is as gevolg van verhuising uit gebiede waar die twee onderrigtale byvoorbeeld Engels en Oshindonga was na ’n gebied waar Engels en Afrikaans op skool aangebied word. Dieselfde probleem volg wanneer leerders uit Angola na Namibiese skole kom, maar voorheen Portugees op skool geleer het (Genis 2020:14). Hoewel daar enkele skole in Namibië is waar Portugees as vak aangebied word, is dit in baie gevalle só dat hierdie betrokke leerders geen ander keuse het as om as nultaalsprekers Afrikaans as tweede taal11 te neem nie.

As gevolg van die groot klasse (ongeveer 39 leerders) in die staatskole, is dit vir die onderwysers onmoontlik om baie tyd af te staan ten einde hierdie leerders te help om op die taalvaardigheidsvlak van die res van die klas te kom. Gepaste taalspeletjies sou moontlik die leerders kon motiveer om tuis meer blootstelling aan en oefening in Afrikaans te kry om die agterstand spelenderwys te oorkom.

In die aanbied van Afrikaans as Toegepaste en Besigheidstaal is woordeskatontwikkeling ’n belangrike bousteen in die proses om die studente vaardig in Afrikaans te maak. Genis (2020:15) het agtergekom dat die studente sukkel om lyste woorde te memoriseer ten einde hulle woordeskat uit te brei. Die blote memorisering van woordelyste is enersyds moeilik en selfs oorweldigend, wat moontlik daartoe kan lei dat die studente moedeloos word. Andersyds is dit bloot eentonig, met die gevolg dat die student weens verveeldheid belangstelling sou kon verloor.

Speletjies is volgens Gerber (2014:48) inherent sosiaal van aard. Sy gaan verder deur te sê dat speletjies gereeld staatmaak op wat sy noem “crowdsourcing”, oftewel akademiese sinergie, waar deelnemers se gesamentlike vaardighede ingespan word om oplossings te kry. Waar taalspeletjies met UNAM-studente gespeel is, was dit opvallend hoe studente op mekaar se sterkpunte en kennis steun om ’n taak suksesvol af te handel. Hierdie samewerking gebeur spontaan wanneer die studente fisies saam aan ’n taak werk. Dit is een van die hoofredes waarom Genis (2020) se studie nie op elektroniese speletjies gefokus het nie, aangesien dit die sinergie en spontane samewerking sou inhibeer indien elkeen afsonderlik op ’n rekenaar of selfoon sou werk.

Die ander belangrike rede waarom daar met die empiriese ondersoek gefokus is op nie-elektroniese speletjies, was die praktiese beperking van toegang tot elektroniese speletjies. Hoewel heelwat van UNAM se studente oor selfone en toegang tot rekenaars beskik, is die toegang nie onbeperk nie. Hulle moet soms in lang rye staan om ’n rekenaar te kan gebruik en wanneer hulle nie op kampus is nie, het hulle nie noodwendig internettoegang nie. Die elektroniese hulpmiddels in die klaskamers is nie altyd in ’n werkende toestand nie, en sommige van die klaskamers het slegs swartborde of witborde sonder enige elektroniese apparate (Genis 2020:45).

Speletjies wat goedkoop en draagbaar is kan toeganklik wees vir al die studente, nie vir slegs die bevoorregte studente12 nie. Hoewel Genis (2020) se studie op universiteitstudente fokus, is ’n langtermyndoelwit daarvan dat speletjies mettertyd in enige skool in Namibië waar Afrikaans onderrig word, gebruik sal word. Daarom meen Genis (2020:46) dat die skole se omstandighede in ag geneem moet word. Sedert 2014 betaal ouers nie meer skoolfonds aan staatskole nie. Dit het ’n negatiewe uitwerking op die hulpbronne tot die skole se beskikking. Juis daarom het Genis (2020) nie die moderne neiging gevolg om elektronies te gaan nie, maar het sy eerder speletjies gebruik wat goed in ’n groot skool in Windhoek sowel as in ’n plattelandse skooltjie waar selfs elektrisiteit nie ’n gegewe is nie, gebruik kan word.

Ongeag die elektroniese of nie-elektroniese aard van die spesifieke speletjies is ons van mening dat taalspeletjies aangewend kan word om woordeskatontwikkeling te bevorder én om ’n positiewe uitwerking op die studente se emosies te hê om sodoende hulle affektiewe filter te verlaag ten einde meer effektiewe leer te bewerkstellig.

Met die oog op ons navorsing oor die gebruik van speletjies in ’n taalverwerwingsklas bespreek ons voorts spelifiëring.

 

3. Spelifiëring

In internasionale navorsingslektuur – onder meer Killian (2013), Marczewski (2013) en Burke (2014) – word die selfstandige naamwoord gamification en die werkwoord gamify gebruik om te verwys na die inkorporering van speletjie-elemente by iets wat nie ’n speletjie is nie. Hierdie tegniek word ingespan om iets wat moeisaam is, soos om ’n nuwe taal aan te leer, meer aangenaam te maak en om persone te noop tot aktiewer deelname en betrokkenheid. Caton en Greenhill (2014:10) beweer: “Gamification is exciting because it promises to make the hard stuff in life fun.”

Spelifiëring is ’n kragtige hulpmiddel in lyn met die hedendaagse geneigdheid om weg te skram van take wat vervelig is. So verwys Bell (2014:22 en 2018:34) na die sleuteltoespraak van Schell (2010) waarin hy beklemtoon dat daar wegbeweeg word van die roetinetake (“perfunctory/functional”) na ’n ingesteldheid wat pret (“fun”) nastreef:

There is something that’s happening in culture right now—a shift just as sure as the Industrial Revolution was a shift. We're moving from a time when life was all about survival to a time when it was about efficiency into a new era where design is largely about what’s pleasurable.

Met die hedendaagse spanning wat onder meer die COVID-19-pandemie meegebring het, is ontsnapping deur middel van iets wat genotvol is baie belangrik.

Die term gamification is volgens Burke (2014:5) in 2002 deur Nick Pelling, ’n Britse rekenaarprogrammeerder, gemunt en gedefinieer as “applying game-like accelerated user interface design to make electronic transactions both enjoyable and fast”. Dit het oorspronklik oor elektroniese programmatuur gegaan, maar dit het nie daarby gebly nie, aangesien Burke (2014:5) meen dat die term sedertdien iets heeltemal anders beskryf.

Marczewski (2013:4) definieer gamification as “[t]he application of gaming metaphors to real life tasks to influence Behaviour, improve Motivation and enhance Engagement” (hoofletters as beklemtoning in oorspronklike bron). Hy beskou die woord gamification as ontoereikend en stel voor dat ’n mens eerder moet fokus op woorde soos “engagement, motivation, behavioural change and productivity” wanneer jy iemand wil oortuig van die waarde van die konsep.

Hoewel Burke (2014:6) erken dat gamification nie ’n mooi woord is nie, is hy van mening dat diegene wat probeer om die woord te verander of te vervang, nie daarin sal slaag nie, want: “In my experience, once a term becomes part of the vernacular, it is impossible to replace, no matter how ugly it is.” Hy baseer sy standpunt daarop dat gamify reeds in 2011 deur Oxford Dictionaries aangewys is as die tweede gewildste woord van die jaar.

Kapp (2012:10) beklemtoon dat speletjies aangewend kan word as ’n bron van motivering sowel as vir leer. Killian (2013:1) bou hierop voort deur ook die aspek van emosie te betrek in sy definisie van gamification wanneer hy sê dit is

harnessing the seductive power of games to promote learning, development, productivity, engagement, commitment and population re-enfranchisement to pursue the monetization of emotion.

In heelwat tale word gamification as leenwoord oorgeneem, byvoorbeeld in Deens en Bulgaars (Genis 2020:36). Soms word dit slegs ortografies aangepas, soos in Duits, waar die woord volgens hulle taalreëls as selfstandige naamwoord met ’n hoofletter geskryf word (Gamification), maar dit is nie die enigste vorm wat voorgestel word nie – die woord Spielifizierung13 word ook gebruik. In Spaans word ’n ortografiese aanpassing gemaak wat ook die verskil in uitspraak aandui: gamificación. Daar is tale waarin die woord morfologies aangepas is, soos in Nederlands (gamificatie), Fries (gamifikaasje) en Bosnies (gamifikacija). Al dié tale se terme begin steeds met gamifi-. Dit is effens anders in Esperanto: gamigado, waar ook die -fi- wegval. Die term sien heel anders daar uit in Frans: ludification. Die Franse adjektiefkonstruksie wat hiermee saamhang vir die Engelse “game-like activities”, is activités ludiques.

Tot redelik onlangs was daar geen vasgestelde Afrikaanse term vir gamification nie. Bosman (2013:148) maak melding van twee voorgestelde vertaalekwivalente, naamlik spelifikasie en verpretting. Genis (2020:37) is van mening dat beide terme ontoereikend is. Die term verpretting is te vaag, aangesien ’n klaskamersituasie ook met behulp van byvoorbeeld musiek of films verpret kan word. Genis (2020:37) se beswaar teen die term spelifikasie is dat dit moontlik verwarrend kan wees deurdat dit, veral in die taalklaskonteks, geassosieer kan word met spelling in plaas van speel of speletjies. Die hoofbeswaar teen die term is dat daar nie maklik op grond van die naamwoord spelifikasie ’n werkwoord afgelei kan word om gebruik te word vir die Engelse gamify nie.

Die selfstandige naamwoord spelifikasie is wel opgeneem in die AWS van 2019, en so ook die werkwoord spelifiseer. Ons is egter van mening dat hierdie twee terme fonologies en morfologies ’n onpaar vorm.

Genis (2020:38) het ’n nuwe Afrikaanse term geskep, naamlik spelifiëring. Hierdie Afrikaanse term is gevorm na aanleiding van die bestaande Sweedse term spelifiering, uitgespreek [spelifieriŋ]. Net soos Sweeds is Afrikaans ’n Germaanse taal en daarom pas die term fonologies gemaklik in Afrikaans. Daar is volgens Genis slegs ’n deelteken op die tweede e van die Afrikaanse woord nodig ten einde die korrekte uitspraak in Afrikaans te verseker. Spelifiëring [spelifieriŋ] word as selfstandige naamwoord gebruik en die werkwoord spelifieer [spelifie:r] kan maklik van die selfstandige naamwoord afgelei word. Die Germaanse stam speel pas morfologies ook beter by die Germaanse suffiks -ifiëring as by die Romaanse suffiks -ifikasie. Hoewel nie een van die twee suffikse in presies daardie vorm as suffikse gelys word nie, kom dit voor in die voorbeelde wat Combrink (1990:43) verskaf. Hy gee drie voorbeelde van woorde wat gevorm is met behulp van die suffiks -kasie, naamlik falsifikasie, verifikasie en personifikasie. Net soos in die geval van spelifikasie, eindig bogenoemde drie woorde almal op -ifikasie. Die verskil is dat Combrink (1990:43) se voorbeelde almal Romaanse stamme het, terwyl die stam speel in teenstelling daarmee Germaans is. Die voorbeelde wat hy lys van woorde wat gevorm word met behulp van die suffiks -ing, naamlik beweging, aanraking en bevegting, se stamme is almal van Germaanse afkoms, en vertoon dieselfde patroon as wat sigbaar is in spelifiëring. Op grond hiervan stel Genis (2020:38) voor dat die term spelifiëring eerder gebruik word in plaas van die Engelse gamification.

Na aanleiding hiervan maak ons dus deurgaans gebruik van die meer gepaste woordpaar spelifieer en spelifiëring.

 

4. Speletjies as opvoedkundige hulpmiddel

Bush (2016:2) definieer ’n opvoedkundige speletjie as “[a]n interactive competitive classroom activity designed to practice or elicit production of specific grammatical patterns”. Ons stem saam met die definisie, gegewe dat die kompetisiefaktor na individuele mededinging van die taalverwerwingstudent teen hom-/haarself sowel as onderlinge kompetisie tussen die studente in die klas verwys.

Na aanleiding van Bush (2016:2) se definisie word speletjies as opvoedkundige hulpmiddel bespreek, asook die gebruik van speletjies in taalverwerwing. Hoewel spelifiëring as sodanig relatief nuut is, word die bruikbaarheid van speletjies as opvoedkundige hulpmiddel reeds dekades lank erken. Wright, Betteridge en Buckby (1984:1) voer twee hoofredes aan waarom speletjies in die taalonderrigsituasie nuttig is.

Eerstens is die aanleer van ’n taal dikwels uitdagend en selfs moeilik; speletjies dra by tot die volhoubaarheid van die studente se belangstelling. In die tweede plek is dit belangrik vir die daarstel van ’n konteks waarin die studente die verworwe woordeskat sinvol kan benut. Wright e.a. (1984:1) glo dat speletjies juis help om ’n konteks daar te stel waarin dit sinvol en nuttig is vir die student om die taal te leer en te gebruik. Dit strook ook met die vereistes van die taakgebaseerde benadering wat werklikewêreldtaalgebruik in die taalverwerwingsklas aanmoedig.

Nie net is die gebruik van die taal tydens speletjies vir die studente nuttig nie, maar ontwikkel hulle sodoende waardering vir die besondersheid van die taal in plaas daarvan om te dink aan hoe moeilik die werk is, soos blyk uit die volgende aanhaling van Uberman (1998:21):

Games encourage, entertain, teach, and promote fluency. If not for any of these reasons, they should be used just because they help students see beauty in a foreign language and not just problems that at times seem overwhelming.

Dorry (1966:v) het reeds in 1966 klem gelê op die pretfaktor in die tweedetaalklas (addisioneletaalklas). Sy is van mening dat dit pret moet wees vir die taalaanleerder sowel as vir diegene wat dit onderrig. Sy beskou weldeurdagte speletjies as “an enjoyable and profitable form of practice to reinforce what has already been taught in a more formal way” (Dorry 1966:v). Dit sluit aan by die onderskeid wat getref word tussen formele en informele leer, waar eersgenoemde verwys na doelbewuste leer wat in die klas plaasvind, terwyl informele leer buite klasverband plaasvind, byvoorbeeld wanneer studente buite die klaskamer met mekaar kommunikeer, sosiale media gebruik of rekenaarspeletjies speel (Sørensen en Meyer 2007:560).

Speletjies is van waarde omdat dit oor die volgende eienskappe beskik wat ooreenstem met werklikewêreldkommunikasie:

  • Die kommunikatiewe interaksie is doelgerig.
  • Die spreker kry onmiddellike terugvoering van die luisteraar rakende hoe suksesvol die kommunikasie was.

Jones en Kahn (2017:5) onderskei drie vaardigheidsdomeine wat in taalonderrig onderling verbind is:

  • kognitiewe vaardighede (soos die werkende geheue, aandagspan en houding/ ingesteldheid teenoor leer en groei)
  • emosionele vaardighede (wat mens byvoorbeeld help om frustrasie te hanteer en emosies te bestuur)
  • sosiale en interpersoonlike vaardighede (wat dit moontlik maak om sosiale situasies te navigeer, sosiale tekens te lees en in ’n span te werk).

Speletjies in die taalverwerwingsklaskamer het die potensiaal om al drie hierdie domeine te betrek.

Die rol van die taalverwerwingsdosent is baie belangrik in spelifiëring. Walsh, McGuinness en Sproule (2019:1170) identifiseer drie moontlike ingesteldhede of betrokkenheidsvlakke van die dosent:

  • onbetrokkenheid (“non-participatory”)
  • oorbetrokkenheid (“over-participatory”)
  • gepaste betrokkenheid (“appropriately participatory”).

Hulle beklemtoon dat die gepaste vlak van betrokkenheid nodig is vir die effektiewe gebruik van speletjies in die klas. Dit behels dat die taalverwerwingsdosent die klas nie te veel moet rig nie, maar dat die klas ook nie heeltemal leerdergesentreerd moet wees nie.

Figueroa-Flores (2015) bespreek die aanwending van spelifiëring binne die tweedetaalverwerwingsklas. Hoewel hy fokus op die gebruik van elektroniese speletjies, is die elemente daarvan van toepassing ook op nie-elektroniese speletjies.

Die volgende tabel van speletjieselemente en definisies is deur Genis (2020:47) oorgeneem en vertaal uit Figueroa-Flores (2015:39).

Tabel 1. Speletjieselemente en definisies (Figuero-Flores 2015:39)

Speletjieselement

Definisie

Punte
(“points”)

Numeriese akkumulasie op grond van sekere aktiwiteite

Toekennings/Plakkers (“badges”)

Virtuele embleem wat prestasie verteenwoordig

Ranglys
(“leaderboards”)

Rangering van taalaanleerders op grond van sukses behaal

Vorderingstaat
(“progress bars / progression”)

Toon die status van die taalaanleerder

Prestasiegrafiek
(“performance graph”)

Toon die prestasie van die taalaanleerder

Mylpale/trappe/stappe
(“quests”)

Onderskeie take wat die taalaanleerders moet afhandel ten einde die speletjie te voltooi

Vlakke
(“levels”)

Afdelings of dele van die speletjie

Avatars
(“avatars”)

Visuele afbeelding of alter ego van die taalaanleerder

Sosiale elemente
(“social elements”)

Verhoudings of bande met ander taalaanleerders deur middel van die speletjie

Beloning of beloningsisteem
(“rewards / reward system”)

Sisteem om taalaanleerders te motiveer om ’n taak te voltooi of mylpaal te bereik

 

Punte verwys na die punte wat die taalaanleerder in die voor- en die natoetse behaal, aangesien dit letterlik, soos in ons ondersoek, die woordeskatuitbreiding tydens die lestyd uitbeeld.

Die taalaanbieder kan gebruik maak van aanmoedigende plakkers of sterre wat op die natoetse geplak word, byvoorbeeld ’n groen ster indien die natoets geslaag is, ’n silwer ster indien die student ’n onderskeiding (75% of meer) behaal het en ’n goue ster indien hy/sy volpunte daarvoor behaal het.

Om etiese redes is daar in hierdie studie nie gebruik gemaak van ’n ranglys nie, ten einde die deelnemers se anonimiteit en privaatheid te verseker, maar dit sou onder ander omstandighede heel waarskynlik as aanmoediging kan dien indien die taalaanbieder die top-vyf-studente se name op ’n ranglys teen die muur sou vertoon.

Die volgende element, naamlik die vorderingstaat, dui volgens Figueroa-Flores (2015:39) die status van die taalaanleerder aan. ’n Sinvolle gebruik hiervan is byvoorbeeld om aan te dui hoeveel van die speletjies die student gespeel het, en hoeveel van die voor- en natoetse hy/sy voltooi het.

Vir elke taalaanleerder sou ’n prestasiegrafiek opgestel kon word en dit kan aangewend word, veral in die vorm van ’n tweekleurige staafgrafiek, om telkens die student se prestasie in die voortoets met die prestasie in die natoets te vergelyk. Dit bied voorts ’n goeie algehele oorsig wat dit moontlik maak om die taalaanleerder se prestasie in al die onderskeie toetse te vergelyk.

Die mylpale/trappe/stappe dui op die verskillende take wat die taalaanleerder binne een speletjie moet bemeester, byvoorbeeld:

  • Mylpaal 1: Ontmoet jou speelmaat. (Tydens hierdie stap moet beide taalaanleerders hulle name vir mekaar sê, hand skud en sê: “Aangename kennis.”)
  • Mylpaal 2: Skommel en pak die kaartjies onderstebo in netjiese rye.
  • Mylpaal 3: Speel die geheuespeletjie deur telkens beurte te maak om twee kaartjies op ’n slag om te draai met die hoop om die bypassende kaartjies te vind, tot al die pakkies gemaak is.
  • Mylpaal 4: Tel die aantal pakkies wat elke deelnemer het. Die een met die meeste pakkies is die wenner.
  • Mylpaal 5: Skud hand. Wens die wenner geluk. En bedank jou speelmaat.

Die vlakke van die speletjie dui op die moeilikheidsgraad van die speletjie wat byvoorbeeld self deur die taalaanleerder bepaal sou kon word. Ter illustrasie: Met ’n geheuespeletjie waar die pakkie op vlak 1 gewoonlik uit twee identiese kaartjies bestaan waarop daar ’n prentjie sowel as die naam van ’n spesifieke vrug is, bestaan die pakkie op vlak 2 uit een kaartjie waarop ’n prentjie van die vrug is en een kaartjie waarop slegs die woord is. Sou twee of meer taalaanleerders besluit dat die speletjie op vlak 1 te maklik vir hulle is, kan hulle die speletjie op vlak 2 speel ten einde akademiese verveeldheid te voorkom.

Avatars is meer van toepassing op elektroniese speletjies, maar kan by nie-elektroniese speletjies gebruik word deurdat die taalaanleerders, wanneer hulle in groepe werk, vir hulle groep ’n naam kan kies, byvoorbeeld Duikers en Steenbokke. Deurdat die taalopvoeder elke groep met behulp van hul spannaam aanspreek, dra dit by tot ’n gevoel van samehorigheid in die groep en die individuele taalaanleerder voel veiliger aangesien die klem op die span val.

Sosiale elemente speel ’n rol in die vorm van spanmaats tydens groepwerk, byvoorbeeld waar die een taalaanleerder ’n beurt kry om die tyd aan te dui deur die wysers op ’n kartonhorlosie te draai, die volgende een ’n beurt kry om die horlosie aan die teenstanders te toon en nog ’n derde een die korrekte tyd op ’n papier op die knipbord te skryf. ’n Ander voorbeeld is in die geval van rolspel waar die een taalaanleerder moontlik ’n winkelier speel en die ander twee ’n ma en ’n kind.

Die beloningsisteem tree in werking wanneer die taalaanleerders die geleentheid kry om hulle verworwe woordeskat in ’n volgende klas te benut, byvoorbeeld wanneer hulle ’n paragraaf moet skryf wat hulle nuutaangeleerde woordeskat moet bevat, of wanneer die taalaanleerders in ’n predikaattoets of eksamen, wat hulle woordeskat toets, dieselfde peil handhaaf of selfs beter presteer as in die natoets.

Voorts word die teoretiese raamwerke vir ons navorsing bespreek.

 

5. Teoretiese begronding

5.1 Krashen se affektiewefilterhipotese

Krashen (1982:10) se monitormodel bestaan uit vyf hipoteses, naamlik die verwerwing-leer-hipotese, die natuurlikevolgordehipotese, die monitorhipotese, die toevoerhipotese, en die affektiewefilterhipotese, waarvan laasgenoemde veral van belang is vir die doel van hierdie studie omdat die gebruik van prettige taalspeletjies moontlik die affektiewe filter van die studente kan verlaag.

Krashen (1982:10) argumenteer in sy affektiewefilterhipotese dat ’n leerder optimaal leer in ’n omgewing van selfvertroue, lae angs en hoë motivering. Dié hipotese demonstreer hoe affektiewe faktore met tweedetaalverwerwing verband hou. Hierdie denkwyse strook met dié van Csikszentmihalyi (1990) se “flow theory” of vloeiteorie. Krashen se hipotese oor die affektiewe filter fokus op drie faktore: motivering, angs en selfvertroue.

Daar is menige definisies van motivering. Ons ondersteun Yang (2012:41) wat motivering definieer as “the definite purpose for a certain activity, or the endless effort in order to achieve that goal”. Daar is volgens Abrudan (2008:559–60) verskeie faktore wat ’n uitwerking op die rol van motivering in tweedetaalverwerwing het. Houding en motivering speel ’n belangrike rol in suksesvolle tweedetaalverwerwing. Abrudan (2008:560) postuleer dat “when the only reason for learning a second language is external pressure, internal motivation may be minimal and attitudes towards learning are likely to be negated”. Taalaanleerders wat positiewe houdings teenoor die taalverwerwingsproses, die taalaanbieder en die sprekers van die doeltaal het, sal volgens Abrudan (2008:560) meer aandagtig luister in die klas.

’n Verdere faktor wat motivering in tweedetaalverwerwing beïnvloed is die taalaanbieder en die manier hoe die taalles aangebied word. Indien die taalaanbieder gemotiveerd en energiek is, sal die taalaanleerder ook meer gemotiveerd wees (Abrudan 2008:560). Taalaanleerders het verskillende leerstyle en taalaanbieders wat aan taalaanleerders ruimte gee met betrekking tot die leerstyl wat gebruik word, is geneig om meer gemotiveerde taalaanleerders in hul klas te hê.

Die taalverwerwingsproses kan vir taalaanleerders traumaties wees. Zheng (2008:1) wys daarop dat baie taalaanleerders erken dat die proses hul angstig maak. Zheng (2008:2) meen dat angs te make het met die spanning, vrees, senuweeagtigheid en ongemak wat persone in spesifieke situasies of oor die algemeen ervaar, terwyl Yang (2012:41) skryf: “Anxiety is the uncomfortable emotional state which is caused by frustration of one’s self-esteem. And the frustration is caused because the individual cannot fulfil his setting goal or cannot overcome the threat of the difficulties.” Taalangstigheid het volgens Zheng (2008:1–7) verskeie oorsake, byvoorbeeld persoonlike of interpersoonlike oorsake; die taalaanleerder se persepsie van taalleer; die taalaanbieder se persepsie van taalangstigheid; die interaksie tussen die taalaanleerder en die taalaanbieder; klaskamerprosedures en take; en die manier waarop die doeltaal in die klaskamer getoets word (hetsy verbaal of nieverbaal, gestandaardiseerde toetse of vrye interaksies en gesprekke).

Yang (2012:41) is van mening dat ’n individu se persoonlikheid ’n impak het op sy/haar vermoë om ’n tweede taal te verwerf. Selfvertroue is baie belangrik en dit kan tweedetaalverwerwing beïnvloed. Selfvertroue is volgens Yang (2012:41) ’n persoon se gevoelens oor hulself en hoe hulle hulself sien. Persone wat meer vertroue in hul eie vermoëns het, is geneig om beter te vaar in onderrigsituasies. Die rede hiervoor is dat mense met goeie selfvertroue geneig is om meer kanse te vat en nie te vrees dat hul dalk foute kan maak nie. Hulle gee dus vir hulself meer geleenthede om in die doeltaal te kommunikeer (Yang 2012:41). Die teenoorgestelde is ook waar. Persone met ’n lae selfbeeld is te bang om foute te maak en vermy daarom kommunikasie in die doeltaal. Om hierdie rede is hul taalverwerwingsproses stadiger (Yang 2012:41).

5.2 Taakgebaseerde benadering

Die taakgebaseerde benadering is ’n belangrike onderrigbenadering in die veld van taalverwerwing. Dit word al vir die afgelope dekade as ’n effektiewe benadering beskou wat gebaseer is op teorie en navorsing deur internasionale navorsers soos Ellis (2003), Willis en Willis (2007), Nunan (2010), en plaaslike navorsers soos Kruger en Poser (2007), Adendorff (2013), Greyling (2014) en Sass (2017).

Verskeie teoretici, insluitend Willis (1996) en Nunan (2010), bespreek die raamwerk van ’n tipiese taakgebaseerde taalles in hul werk. Daar is drie stappe of fases in ’n taakgebaseerde les, naamlik die (i) pretaak, (ii) taak en (iii) posttaak. Elkeen van die stappe help taalaanleerders om sistematies die taal aan te leer en verskaf vir taalaanleerders ’n verskeidenheid take wat positiewe leergeleenthede skep vir verskillende tipes leerders. Die take is gerig op alledaagse aktiwiteite soos om inkopies te doen of ’n roete aan iemand te verduidelik – dit gee werklikewêreldbelang aan die take en dien as motivering vir taalaanleerders. Verder bevorder dit taalaanleerders se kommunikatiewe vermoëns en laat dit hulle toe om met meer gemak met moedertaalsprekers te kommunikeer.

Willis (1996), Ellis (2003) en Herrero (2006) is van mening dat alle prosedures of fases van take die volgende gemeen het: die pretaak, die taak self en die posttaak. Hierdie fases is vir dié navorsing as metodologiese raamwerk in die taalverwerwingsklaskamer toegepas, soos gesien kan word in die volgende lesbeplanning wat vir die praktiese ondersoek gebruik is:

Pretaak

Dit is die fase waarin die voortoets geskryf word. In die eerste afdeling van die voortoets dui die deelnemers aan of hulle aanvanklike emosie positief, neutraal of negatief is. Die tweede afdeling is vrae oor die dag se tema om die aanvangswoordeskat van die deelnemers te bepaal. Na ongeveer 10 minute handig hulle die toetse in.

Taak

1. Opdrag

Die dosent behandel die dag se tema met die deelnemers en verduidelik hoe die woordeskat ingeoefen sal word. In die geval van die proefgroep word die dag se speletjie verduidelik en na gelang van die speletjie word die klas verdeel in pare/kleingroepies of twee spanne.

2. Uitvoering

In die kontrolegroep word lyste herhalend deur die dosent en die studente gelees.

_________________

2. Uitvoering

In die proefgroep word die taalspeletjie gespeel.

3. Rapportering

Die deelnemers kry die geleentheid om te sê met watter woorde hulle nog sukkel.

___________________________

3. Rapportering

Die deelnemers bepaal wie die speletjie gewen het.

Posttaak

Ontleding

Dit is die fase waarin die natoets geskryf word. Hierdie toets is in alle opsigte identies aan die voortoets. Die eerste afdeling van die voortoets bestaan uit ’n tabel waarop die deelnemers aandui of die emosie wat hulle op daardie stadium ervaar positief, neutraal of negatief is. Die tweede afdeling is vrae oor die dag se tema om die uiteindelike woordeskat van die deelnemers te bepaal. Na ongeveer 10 minute handig hulle die toetse in.

Oefening

Die dosent deel die dag se notas met korrekte antwoorde uit en motiveer die deelnemers tot woordeskatvaslegging deurdat hulle dit tuis gaan hersien en in die praktyk gebruik.

Figuur 1. Taakgebaseerde lesraamwerk opgestel volgens Ellis (2006:80)

Die taakgebaseerde benadering verleen die nodige struktuur aan die les, sodat die taalaanbieder en die taalaanleerders konstruktief saam kan werk aan die oordrag en verwerwing van nuwe woordeskat op ’n deelnemende wyse en terselfdertyd die geleentheid bied vir beide partye om die vordering te monitor deur middel van konkrete terugvoering in die vorm van die voor- en natoetse.

5.3 Akademiese emosies

Csikszentmihalyi (1990) het reeds in 1975 twee uiteenlopende emosies, naamlik verveeldheid en angs, ondersoek. Hy het die term flow of vloei gemunt en die “flow theory” of vloeiteorie ontwikkel. Sy baanbrekerswerk vorm steeds die grondslag van die werk van etlike hedendaagse navorsers in die positiewe sielkunde en akademiese emosies (onder andere Challco, Andrade, Borges, Bittencourt en Isotani [2016] en Pekrun [2019]) en spesifiek ook spelifiëring in die opvoedkunde (byvoorbeeld Wilson 2015).

Csikszentmihalyi (2003:74) het die volgende diagram (soos vertaal deur Genis [2020:30]) saamgestel om sy vloeiteorie te verduidelik.

Figuur 2. Vloeiteorie (vertaal uit Csikszentmihalyi 2003:74)

Shernoff, Csikszentmihalyi, Schneider en Shernoff (2014:160) benadruk dat beide angs en verveeldheid teenproduktief is vir die leerproses en verduidelik dat dit voorkom wanneer die betrokke individu ’n wanbalans tussen die uitdagingsvlak en sy/haar vaardigheidsvlak beleef. Indien die individu voel dat die uitdaging te groot is in vergelyking met sy/haar vaardighede, wek dit angs. Sou die teenoorgestelde gebeur, veroorsaak die lae uitdagingsvlak teenoor die heelwat hoër vaardigheidsvlak dat die persoon verveeldheid beleef. Csikszentmihalyi verduidelik volgens Shernoff e.a. (2014:160) dat daar ’n goue middeweg is – ’n affektiewe staat waarin die individu ervaar dat daar ’n goeie balans tussen vaardigheid en uitdaging is. Dit gee aanleiding tot ’n optimale belewenis wat hy vloei noem. Hy beskryf dit as ’n geestelike toestand gekenmerk deur energieke fokus, algehele betrokkenheid en sukses met die taak op hande (Csikszentmihalyi 2014:244). Hy voer ook aan dat dit lei tot opwinding en kreatiewe probleemoplossing en dat genot (“enjoyment”) ’n essensiële deel daarvan is (Csikszentmihalyi 2003:75).

Pekrun (2006) bou daarop voort deur te sê dat vloei die opwinding van uitdagende take sowel as die herhaling van aangename aktiwiteite insluit. Hy stel verder dat dit belangrik is vir die individu om ’n mate van beheer oor die situasie te hê. Dit vorm deel van sy beheer-waarde-teorie. In hierdie teorie koppel hy die positiewe waarde van sukses en die negatiewe waarde van mislukking aan die vlak van beheer wat die taalaanleerder ervaar en aan die emosies wat die verskillende moontlike kombinasies tot gevolg het – soos vergestalt in die volgende tabel (Pekrun 2006:6) wat deur Genis (2020:31) vertaal is:

Tabel 2. Beheer-waarde-teorie (Pekrun 2006:6)

 

Evaluering

Fokus

Waarde

Beheer

Emosie

Uitkoms: Voornemend

Positief (sukses)

Hoog
Medium
Laag

Verwagte blydskap
Hoop
Moedeloosheid

Negatief (mislukking)

Hoog
Medium
Laag

Verwagte verligting
Angstigheid
Moedeloosheid

Uitkoms: Terugwerkend

Positief (sukses)

Irrelevant
Self
Ander

Blydskap
Trots
Dankbaarheid

Negatief (mislukking)

Irrelevant
Self
Ander

Hartseer
Skande
Woede

Aktiwiteit

Positief
Negatief
Positief/Negatief
Geen

Hoog
Hoog
Laag
Hoog/Laag

Genot
Woede
Frustrasie
Verveeldheid

 

Hoewel Pekrun (2006:6) ’n groot aantal moontlike emosies identifiseer, soos in die tabel hier bo vermeld, lê hy in sy formules klem op slegs vyf emosies, naamlik: vreugde, hoop, verligting, angs en moedeloosheid. In die formules stel Pekrun (waar daar sukses verwag word) ’n glyskaal van hoop voor met vreugde as die positiewe uiterste, en moedeloosheid as die negatiewe uiterste. Hierteenoor stel hy ’n glyskaal van angstigheid voor wanneer daar mislukking verwag word, met verligting as die positiewe uiterste, en moedeloosheid as die negatiewe uiterste.

Genis (2020:31) stem saam met Pekrun se indeling van die positiewe emosies van vreugde waar sukses verwag en ook behaal is, sowel as verligting waar mislukking verwag is, maar dit nie gerealiseer het nie. Pekrun (2006) koppel in beide scenario’s dieselfde emosie, naamlik moedeloosheid, aan die negatiewe pool. Volgens Genis (2020:31) sou sy eerder verskillende emosies verwag het, aangesien die aanvanklike emosionele vooruitsigte van die twee penaries lynreg van mekaar verskil: Die student sou iets soos verslaenheid of ontnugtering beleef indien hy/sy vooraf sukses verwag het maar dit nie kon behaal nie.

Pekrun (2006:9) verbeeld die tipiese verloop van beheerbeoordeling (“control appraisal”), waardebeoordeling (“value appraisal”) en negatiewe prestasie (“negative achievement”) as volg:

Figuur 3. Tipiese volgorde (vertaal uit Pekrun 2006:9)

Pekrun, Goetz, Titz en Perry (2002:97) het vier kategorieë van emosies geskep, naamlik:

  • positief-aktiverend (“positive-activating”), byvoorbeeld genot, hoop en trots
  • positief-deaktiverend (“positive-deactivating”), byvoorbeeld verligting en tevredenheid
  • negatief-aktiverend (“negative-activating”), byvoorbeeld woede, angs en verleentheid
  • negatief-deaktiverend (“negative-deactivating”), byvoorbeeld verveeldheid en moedeloosheid.

Volgens hierdie indeling van Pekrun e.a. (2002:97) word angs as ’n aktiverende emosie geklassifiseer, maar volgens Krashen (1982) se affektiewefilterhipotese sou dit juis ’n deaktiverende effek op die leerproses kon hê. Die teenstrydigheid in Pekrun en Krashen se kategorisering van angs kan moontlik verklaar word op grond daarvan dat hulle na verskillende soorte angs verwys. Angs wat voorkom as gevolg van ’n lewensbedreigende situasie behoort aktiverend wees. Daarteenoor sal angs as gevolg van die vrees om ’n fout te maak waarskynlik eerder deaktiverend wees. Binne die vreemdetaalklaskonteks sou die deaktiverende effek van angs dalk meer algemeen wees, hoewel dit ook nie onmoontlik is dat dit aktiverend kan wees nie, byvoorbeeld in ’n situasie waar ’n taalaanleerder vrees dat die ander span in ’n spanspeletjie gaan wen, en daarom juis genoop word om harder te probeer om die korrekte antwoorde te gee ten einde te voorkom dat hy sy eie span in die steek laat.

Ketonen (2007:9–10) is van mening dat akademiese emosie en ’n taalaanleerder se gemoedstoestand met mekaar verband hou. Alhoewel die twee konsepte met mekaar verwar kan word, kan gemoedstoestand beskryf word as ’n affektiewe staat in individue wat langer duur en makliker is om uit te ken (Ketonen 2007:9). Verder is ’n gemoedstoestand nie gemik op ’n individu of gebeurtenis nie. ’n Studie deur Hirt, Melton, McDonald en Harackiewicz (1996) in Ketonen (2007:10) het bevind dat deelnemers wat ’n positiewe gemoedstoestand voor die aanvang van die taak gehad het oor die algemeen die taak as interessanter beskou het as deelnemers wat ’n slegte of neutrale gemoedstoestand gehad het. Verder meen Ketonen (2007:10) dat depressie ’n impak op akademiese emosie het. Negatiewe emosies soos dié van depressie en woede kan volgens Ketonen (2007:10) akademiese prestasie verlaag en kan situasionele emosie tot gevolg hê. Laastens kan herhaaldelike negatiewe akademiese emosies vanaf situasionele emosies na patrone van negatiewe akademiese emosie beweeg (Ketonen 2007:10). Ons is van mening dat dit ook die geval sou wees met herhaaldelike positiewe akademiese emosies wat tot patrone van positiewe akademiese emosies sou lei.

Acee, Kim, Kim, Kim, Chu, Kim, Cho en Wicker (2010:17) beweer dat beide oorstimulasie en onderstimulasie kan lei tot akademiese verveeldheid. Die term valensie (“valence”) word gebruik om aan te dui of ’n emosie as positief of negatief ervaar word. Aktivering (“activation”) word gebruik om aan te dui of die emosie die student noop om betrokke te wees of om onbetrokke te wees.

Schrader en Nett (2018:62) gebruik ook valensie om akademiese emosies te beskryf. In hulle navorsing wat gedoen is met behulp van speletjies waarvan die vlakke van beheer wat die taalaanleerder ervaar verander word, dui hulle die prominente prestasie-emosies (“prominent achievement emotions”) aan, naamlik genot, wat ’n positiewe valensie het, sowel as verveeldheid, woede en frustrasie, wat ’n negatiewe valensie het. Hulle kom tot die gevolgtrekking dat taalaanleerders wat voel asof hulle min tot geen beheer het nie eerder geneig is om negatiewe emosies soos frustrasie te ervaar as wat die geval sou wees onder taalaanleerders wat ’n hoër vlak van beheer ervaar.

Daschmann, Goetz en Stupnisky (2011:431) het agt faktore geïdentifiseer wat aanleiding kan gee tot akademiese verveeldheid:

  • wanneer die uitdagingsvlak te hoog is
  • wanneer die uitdagingsvlak te laag is
  • wanneer die roetine nie verander nie
  • wanneer dit wat geleer moet word nie sinvol is nie
  • wanneer die taalaanleerder iets beters het om te doen as om in die klas te wees
  • wanneer die taalaanleerder nie van die taalopvoeder hou nie
  • wanneer die taalaanleerder voel dat hy nie betrek word in die klas nie
  • wanneer die taalaanleerder oor die algemeen geneig is om verveeld te raak.

Op grond van die teoretiese begronding en die opvoedkundige waarde van speletjies is ons van mening dat taalspeletjies in ’n taalverwerwingsklas gebruik kan word om die affektiewe filter te verlaag en dat dit moontlik kan bydra om positief-aktiverende emosies in die vreemdetaalklas aan te wakker en negatief-deaktiverende emosies (byvoorbeeld verveeldheid, moedeloosheid of angstigheid) te verminder wanneer die studente die taalspeletjies geniet. Die sukses wat hulle in die speletjie ondervind, kan weer tot werksbevrediging lei wat hul opnuut vul met die hoop dat hul Afrikaans sal kan bemeester. Indien die affektiewe filter verlaag kan word deurdat die studente speletjies speel, sou die verlaagde affektiewe filter daartoe lei dat die studente meer ontvanklik is vir leer. Die positiewe emosies wat hulle in die klassituasie ervaar, dra weer by tot hulle motiveringsvlakke, wat ’n tornado-effek tot gevolg het, soos voorgestel deur Griffiths (2018:122).

 

5. Navorsingsontwerp

5.1 Inleiding

Hierdie afdeling fokus op die werkswyse wat gevolg is met die praktiese ondersoek na die invloed van spelifiëring tydens die onderrig van woordeskat in die Afrikaanstaalverwerwingsklas aan UNAM.14

Die empiriese ondersoek behels ’n gemengde metodologie van kwantitatiewe en kwalitatiewe navorsing deurdat vraelyste (een vir taalverwerwingdosente en een vir Afrikaanstaalverwerwingstudente wat voltooi is nadat vyf lesse aangebied is) en voortoetse en natoetse (elkeen met ’n emosionele en woordeskatkomponent) by vyf lesse gebruik is. Buiten die resultate wat verkry is deur die eksperiment en reflektiewe vraelyste van die studente, is ’n verdere dimensie ingebring deur ’n vraelys wat voltooi is deur vier dosente wat taalverwerwing aan UNAM onderrig, in onderskeidelik Duits, Frans, Spaans en Portugees. Hierdie vraelyste handel oor hulle menings oor spelifiëring op grond van hulle ondervinding daarmee in hulle taalverwerwingsklasse.

5.2 Deelnemers

Die empiriese ondersoek behels aksienavorsing wat die studente wat onder die soeklig kom in so ’n mate deur middel van hulle eie refleksie op hulle belewenis betrek dat hulle nie bloot subjekte is wat ondersoek word nie. Juis daarom word die term deelnemers gebruik.

Uit die drie jaargange wat deel vorm van UNAM se Afrikaanstaalverwerwingsprogram, was die beginnersgroep in die eerstejaarsmodule die aangewese groep om by die navorsing te betrek. Die rede hiervoor is drieledig. Eerstens beskik hierdie groep oor die minste Afrikaanse woordeskat en juis daarom moet daar as deel van die formele onderrig nog geweldig baie tyd bestee word aan woordeskatuitbreiding, wat deel vorm van die kernfokus van dié navorsing. Tweedens is die eerstejaarsmodule ook wat getalle betref die meer geskikte groep. Daar is jaarliks ongeveer 20 studente in die eerstejaarsklas, terwyl die tweede- en derdejaarsgroep normaalweg uit minder as tien studente bestaan. Derdens was hierdie groep se klasrooster ook ideaal om die navorsing moontlik te maak sonder om die studente se klaswisseling te kompliseer. Daar is op die rooster vier moontlike lesure per week aangedui wat aan die module LAB3582 Afrikaans vir Beginners toegewys is. Twee van die periodes word aangebied vir die klas as geheel, maar die derde lesuur is spesifiek vir woordeskatbou – wat beteken dat die praktiese ondersoek vir die twee groepe afsonderlik op die twee oorblywende dae plaasgevind het. Dit beteken dat die praktiese ondersoek gedoen kon word sonder dat die deelnemers ekstra tyd sou moes opoffer. Dit was dus nie problematies om ’n geskikte tydgleuf te vind te midde van roosterbotsings van studente met verskillende studierigtings nie.

Aangesien ’n redelike hoeveelheid van die studente wat die module volg dit as ’n ekstra module neem, was nie almal eerstejaarstudente nie, hoewel dit ’n eerstejaarmodule is. Die studente se ouderdom wissel gewoonlik van 18 tot 22, in uitsonderlike gevalle met ’n student wat selfs in die 30’s is. Tydens die betrokke semester waarin die eksperiment gedoen is, was daar juis twee deelnemers wat reeds besig was met hul meestersgrade. Hulle was onderskeidelik 27 en 29.

Sommige van die deelnemers was nultaalsprekers van Afrikaans, byvoorbeeld twee studente afkomstig uit Europa wat eers gedurende die tweede semester van 2018 by UNAM begin studeer het en geen vorige blootstelling aan Afrikaans gehad het nie. Die deelnemers wat afkomstig was uit ander Afrikalande het reeds in ’n mindere of meerdere mate tydens die eerste semester van 2018 by UNAM in aanraking gekom met Afrikaans, soos ook die geval was met die Namibiese studente. Sommige van die deelnemers het die voorafgaande module vir Afrikaanse Taalverwerwing, Grondslag van Afrikaans, of soos dit in die prospektus van die universiteit opgeteken is, LAB3511 Foundations of Afrikaans, geneem. Op grond van die toelatingsvereistes vir die module Afrikaans vir Beginners was al die deelnemers dus beginners, maar slegs twee was nultaalsprekers in die volle sin van die woord. Die gemeenskaplike faktor was dat al die deelnemers hulle kennis van Afrikaans, insluitende woordeskat, wou verbeter.

Die studente is lukraak in twee groepe van 11 ingedeel. Die enigste verskil tussen die twee groepe se lesse is dat die proefgroep se lesse speletjies tydens die taakfase bevat, terwyl die kontrolegroep nie speletjies gespeel het nie. Ter wille van deelnemeranonimiteit is daar ’n kodenaam aan elke deelnemer toegeken wat te alle tye in die ontleding en bespreking van die data gebruik is. Die kodename bestaan uit ’n letter, wat die groep aandui, en ’n numeriese waarde. Die letter is onderskeidelik ’n K vir die kontrolegroep, en ’n P vir proefgroep. Die numeriese waardes strek van 1 tot 11.

Al die deelnemers het vrywilliglik aan die eksperiment deelgeneem, en kon hulle op enige stadium van die ondersoek onttrek. Die studente was almal gretig om deel te neem en niemand het onttrek nie.

5.3 Instrumente

Die eksperiment het oor ’n tydperk van vyf weke plaasgevind en is gedoen met studente wat die eerstejaarsmodule Afrikaans vir Beginners aan UNAM tydens die tweede semester van 2018 gevolg het. Die hele klas sou twee van die weeklikse lesings saam bywoon, maar die twee groepe het dan die derde lesing op afsonderlike dae bygewoon. Hierdie afsonderlike lesings het in alle opsigte behalwe één ooreengestem: Die tema wat behandel is, die dosent, die klaskamer, die taakgebaseerde benadering, die pretake en die posttake was alles eenders, met die uitsondering van die taalspeletjie wat elke week tydens die taakfase met slegs die proefgroep gebruik is.

Die meetinstrumente wat gebruik is, is toetse en vraelyste.15 Dit beslaan vyf voortoetse en vyf natoetse, elk met ’n emosionele en ’n woordeskatkomponent. Na afloop van die vyf weke het die deelnemers ’n finale reflektiewe vraelys voltooi. Die twee deelnemervraelyste verskil slegs wat betref die gebruik van speletjies. Die kwantitatiewe data is verkry uit die voor- en natoetse, sowel as uit die geslote vrae op die vraelys. Die komponente van die vraelys wat oop vrae bevat, is aangewend ten einde kwalitatiewe data te bekom.

’n Bykomende vraelys rakende die gebruik van spelifiëring, wat bestaan uit enkele geslote vrae vir kwantitatiewe doeleindes, sowel as oop vrae vir kwalitatiewe doeleindes, is ingevul deur die dosente wat verantwoordelik is vir die onderrig van taalverwerwing in onderskeidelik Duits, Frans, Portugees en Spaans aan UNAM.

Vervolgens word die bevindinge van ons empiriese ondersoek bespreek.

 

6. Bevindinge

6.1 Inleiding

Deelnemende aksienavorsing is gedoen deur middel van ’n eksperiment sowel as ’n gevallestudie-komponent ten einde triangulering van bevindinge moontlik te maak en sodoende die betroubaarheid van die bevindinge te verhoog.

Die kontrolegroep en die proefgroep het aanvanklik elk uit 11 deelnemers bestaan.

Vakkeusebotsings van K4, K5 en K11 het hulle genoop om die module te kanselleer, wat daartoe gelei het dat die kontrolegroep uit agt deelnemers bestaan het. Al agt het deurgaans vier van die vyf woordeskatlesse bygewoon, waartydens hulle die voortoets sowel as die natoets geskryf het. Hulle almal het die reflektiewe vraelys voltooi.

Die proefgroep het bestaan uit tien deelnemers, met die kodename van P2 tot P11. Van hierdie tien het een deelnemer, P4, al vyf die lesse se voor- en natoetse voltooi. Deelnemer P7 het twee lesse se toetse voltooi. Vier deelnemers het drie lesse se toetse voltooi en die oorblywende vier deelnemers het vier lesse se toetse voltooi. Nege uit die tien lede van die proefgroep het die reflektiewe vraelys ingevul.

Daar was slegs een deelnemer (P4) wat al die voor- en natoetse van die vyf woordeskatlesse gedoen het, en juis daarom word die kwantitatiewe data wat uit sy toetse bekom is, ook in verband gebring met die kwantitatiewe data uit sy reflektiewe vraelys.

6.2 Dosente se gebruik van taalspeletjies

Hierdie bespreking word gedoen aan die hand van die vrae op die dosentevraelys. Aangesien dit dosente van ander tale is wat almal hulle eie moedertaal onderrig, is die vrae in Engels gestel en beantwoord. Ter wille van die bespreking word daar na die vier dosente verwys as D1, D2, D3 en D4.

Eerstens is gevra watter taal die dosente onderrig. Die betrokke tale is Duits, Frans, Portugees en Spaans. Voorts het al vier dosente aangedui dat hulle self van spelifiëring gebruik maak in hulle taalverwerwingsklasse. Hulle is almal dit eens dat

  • dit ’n goeie idee is om speletjies in die taalverwerwingsklas te gebruik
  • speletjies studente kan help om akademiese angs te oorkom
  • speletjies akademiese verveeldheid voorkom.

Hulle antwoorde op die kwalitatiewe vrae word verbatim weergegee, en daarna word die kerninsigte uitgelig wat uit hul antwoorde na vore gekom het.

Why is it a good idea to use games in the language acquisition class?

D1

Because when playing students do not realize that they are repeating (and thus practising) certain structures or vocabulary.

D2

Games are good didactic practice to learn in fun and it can increase students’ motivation.

D3

It is a good way to target certain aspects of the language (vocabulary, grammar, cultural learning) and reinforce language acquisition. Through the use of game elements in the classroom a more emotional bond with the language is created, plus games are always good to energize students.

D4

Although I don’t know specific studies regarding this topic, I believe that using games in language classrooms can be advantageous. First, games are a fun activity and students will probably be more engaged than in other activities, creating positive association with the language contents used in the game and, eventually, reinforcing memory on the topic (e.g. a song that a student can evoke from time to time). Second, using games is a natural way of learning - not just of humans - and, depending on the games, a context of meaningful learning can be created. Third, it may create a better interaction between students, especially in multicultural classes.

 

Die volgende kerninsigte blyk uit bogenoemde antwoorde, naamlik dat speletjies

  • pret is
  • ’n positiewe effek op die student se emosies het
  • energievlakke, motiveringsvlakke en interaktiwiteit verhoog
  • herhaling moontlik maak sonder dat dit hinderlik of vervelend is
  • ’n betekenisvolle konteks skep waarin leer op ’n natuurlike manier plaasvind.

Why do you use games in your class?

D1

I like using games in my classes. Have always done so. It creates a lively and relaxed atmosphere. Students enjoy it.

D2

(See previous answer)

D3

Having taught a foreign language to different age groups and cultures, I have found that the use of games was always an effective strategy amongst the majority of students to (re)gain attention, create a good group dynamic and help memorization.

D4

I use games as a way of consolidating contents work previously in class. I realized that students tend to prepare themselves for a game more than for a formative evaluation activity. Plus, most students are competitive when the game is played in groups, increasing even more their focus on the language usage in question. It’s fun for them and they come back the next time hoping for more games to take place.

 

Uit bogenoemde antwoorde lei ons af dat speletjies

  • ook vir die dosent pret is
  • ’n lewendige en ontspanne atmosfeer skep
  • studente se belangstelling verhoog en behou
  • in verskeie kulture bruikbaar is
  • groepsdinamika verbeter
  • memorisering ondersteun
  • studente op die betrokke taal laat fokus
  • ’n positiewe verwagting skep.

Please give an example of a vocabulary game you use in your class.

D1

Ich packe meinen Koffer. Ich packe mein Buch.
Ich packe meinen Koffer. Ich packe mein Buch und meinen Stift.
Ich packe meinen Koffer. Ich packe mein Buch, meinen Stift und mein Heft.

D2

Crosswords, vocabulary bingo, pictionary, hangman.

D3

I use classic games such as charades, pictionary, toss a ball, find a student who has a definition to your word, etc. In the last couple of years, I’ve started using Kahoot, which is an online platform where you create a trivia quizz that students can access from their phone and use unanimously.

D4

I created a Bingo game using Power Point Presentation, presenting to the students a list of words (verbs) that they have to try to match with their cards. I used some variations of the game: class divided in groups or students playing individually, depending on the size of the class; cards for the students with the same words for lower levels, cards with synonyms or antonyms for a more advanced group; an extra work sheet were the students have to do a sentence or conjugate the verb for even more advanced groups.

 

Die volgende vier kerninsigte word uit bogenoemde antwoorde afgelei, naamlik dat speletjies

  • aangepas kan word om in verskillende taalklasse gebruik te word
  • geleentheid skep vir dosente om op kreatiewe maniere met werk om te gaan
  • oor ’n breë spektrum strek, van waar geen hulpmiddels benodig word nie tot waar tegnologie ingespan word
  • verskillende moeilikheidsgrade kan hê, afhangend van die student se behoefte.

Any other comments or suggestions regarding gamification in the language class?

D1

Needs to be prepared well and must be explained well. Do not overdo it, it should be a reward.

D2

At tertiary level, the global simulation game-like activity is really a good compromise as it offers the game advantages (fun, acting, disanxietic…) but exposes students to real language and contextualised situations from daily life. Some students do not adhere to games (unlike pupils or children) because they find it childish or hate competing; with the global situation technic this does not happen.

D3

I would love to hear what games you use!

D4

With the new technology available, it is possible to create more engaging and effective games to use in the class room. It’s even possible to create games to be played at home. For that to happen, it’s necessary to create synergies with IT specialists and language teachers should gain knowledge of the potentialities available. It’s impossible or at least too demanding, in my opinion, to have language teachers mastering IT at a higher level, but it’s necessary that they know what can be done. And have someone doing the technical work to create those resources.

 

Uit bogenoemde antwoorde maak ons dat die afleidings dat speletjies

  • deeglike voorbereiding verg
  • vooraf goed verduidelik moet word
  • met ander onderrigstrategieë afgewissel moet word
  • angs teëwerk
  • ’n werklikewêreldkonteks skep
  • verander kan word sodat alle studente daarby aanklank vind
  • elektronies van aard kan wees
  • ook buite die klaskamer ingespan kan word, dus vir informele leer.

Samevatting van dosentevraelys se resultate

Met behulp van die geslote ja-nee-vrae op die vraelys is vasgestel dat die vier dosente dit eens is dat spelifiëring ’n baie nuttige hulpmiddel in die taalverwerwingsklas is en dat dit iets is wat hulle self in hulle klasse gebruik.

6.3 Resultate van empiriese ondersoek

6.3.1 Navorsingsvraag 1: Vind daar woordeskatuitbreiding met behulp van taalspeletjies in die taalverwerwingsklas plaas?

As deel van die ondersoek is die deelnemers gevra of hulle dink dat die gebruik van taalspeletjies ’n goeie metode was om hulle woordeskat die verbeter.

Daar was nege deelnemers in die proefgroep wat die reflektiewe vraelys voltooi het, en hulle almal se antwoord op hierdie vraag was “ja”.

Twee van die deelnemers se antwoorde by die ope vraag waar hulle enige verdere kommentaar kon lewer, sluit ook hierby aan. Dit word vervolgens verbatim aangehaal:

P2

The games were not difficult but challenging, because they got my mind active and thinking and it made it easier to remember words and how to pronounce them.

P5

The games were unforgettable and because we repeated the words so many times, you remember it.

 

Hierdie kwalitatiewe standpunte strook met die kwantitatiewe data wat vervolgens bespreek word. Aangesien die kontrolegroep nie taalspeletjies gespeel het nie, word hier na slegs die woordeskatgroei van die proefgroep gekyk. Al vyf woordeskatlesse word afsonderlik bespreek, waaronder elke deelnemer se prestasie in die voortoets vergelyk word met sy/haar prestasie in die natoets.

Les 1

Les 1 het oor aksiewerkwoorde gehandel en die taalspeletjie wat tydens die taakfase gebruik is om woordeskat te leer, was stomstreke.16

Figuur 4. Proefgroep se woordeskatgroei tydens les 1

Hieruit blyk dit duidelik dat al die deelnemers se woordeskat noemenswaardig toegeneem het. P2 het die laagste voortoetspunt van 24% en die laagste natoetspunt gehad, maar hy/sy het ’n toename van 48 persentasiepunte in woordeskatgroei gehad om 72% in die natoets te kon behaal. Gemiddeld het die proefgroep se woordeskat met 53 persentasiepunte verbeter en meer as die helfte van die proefgroep (vyf uit die agt deelnemers) het volpunte in die natoets behaal.

Les 2

Les 2 het oor tyd gehandel en die taalspeletjie wat tydens die taakfase gebruik is om woordeskat te leer, was ’n draai-en-raai-spanspeletjie.17

Figuur 5. Proefgroep se woordeskatgroei tydens les 2

Hieruit blyk dit duidelik dat al die deelnemers in die proefgroep se woordeskat met minstens 36% gegroei het. Die laagste voortoetspunt van 7% het by twee van die deelnemers, P4 en P9, voorgekom. Een van hierdie twee betrokke deelnemers, P9, het ook die laagste natoetspunt gehad, maar het ’n toename in woordeskatgroei gehad om 43% in die natoets te kon behaal. Gemiddeld het die proefgroep se woordeskat met 47 persentasiepunte verbeter en drie van die sewe deelnemers (P4, P6 en P11) se woordeskat het met 50 persentasiepunte gestyg. Deelnemer P5, wat die beste presteer het met ’n natoetspunt van 93%, se woordeskat het met 64 persentasiepunte verbeter.

Les 3

Les 3 het oor rigtingaanwysings en bewegings gehandel en ’n twee-twee rondry-taalspeletjie is tydens die taakfase gebruik om woordeskat te leer.

Figuur 6. Proefgroep se woordeskatgroei tydens les 3

Hieruit blyk dit weereens dat al die deelnemers se woordeskat gegroei het. Die laagste voortoetspunt, wat by drie van die agt deelnemers (P6, P10 en P11) voorgekom het, was 10%. Nie een van hierdie drie het die laagste natoetspunt gehad nie. Deelnemer P7, wat die swakste in die natoets presteer het, het 20% in die voortoets gehad en steeds met 40 persentasiepunte gegroei om 60% in die natoets te kon hê. Die grootste woordeskatgroei, naamlik 80 persentasiepunte, het by twee van die deelnemers (P4 en P5) voorgekom. Gemiddeld het die proefgroep se woordeskat tydens hierdie les met 59 persentasiepunte gestyg en die kleinste woordeskatgroei was 35 persentasiepunte.

Les 4

Les 4 was oor teenoorgesteldes waarvoor ’n tweestuk- selfkorrigerende legkaartspeletjie tydens die taakfase gebruik is om woordeskat te leer.

Figuur 7. Proefgroep se woordeskatgroei tydens les 4

Hieruit blyk dit duidelik dat al die deelnemers se woordeskat gegroei het. Deelnemer P2 het die laagste voortoetspunt van 0% en die laagste natoetspunt gehad, maar hy/sy het ’n toename van 45 persentasiepunte in woordeskatgroei gehad om 45% in die natoets te kon behaal. Gemiddeld het die proefgroep se woordeskat met 59 persentasiepunte gestyg en die grootste woordeskatgroei was 70 persentasiepunte by deelnemer P5 wat 30% in die voortoets gekry het en volpunte in die natoets behaal het.

Les 5

Les 5 het oor vrugte en groente en hulle meervoudsvorme gehandel. Die taalspeletjie wat gebruik is om hierdie woordeskat te leer, was geheuekaartjies / ’n “memory”-speletjie.

Figuur 8. Proefgroep se woordeskatgroei tydens les 5

Hieruit blyk dit duidelik dat al die deelnemers in die proefgroep se woordeskat gegroei het. Die laagste voortoetspunt by twee van die vyf deelnemers (P3 en P8) was 0%. Albei die betrokke deelnemers het buitengewone woordeskatgroei getoon om in die natoets onderskeidelik 94% en 100% te kon behaal. P10 het met die laagste natoetspunt van 81% die laagste woordeskatgroei van 56 persentasiepunte gehad. Gemiddeld het die proefgroep se woordeskat met 76 persentasiepunte verbeter. Die gebruik van speletjies tydens die taakfase het dus bygedra tot die woordeskatuitbreiding van die proefgroep.

6.3.2 Navorsingsvraag 2: Wat is die effek van taalspeletjies op woordeskatuitbreiding in ’n taakgebaseerde taalverwerwingsprogram?

Vervolgens bespreek ons hoe die proefgroep se woordeskatuitbreiding vergelyk met die woordeskatuitbreiding van die kontrolegroep.

Die vraag oor hoe die woordeskatuitbreiding van die proefgroep met dié van die kontrolegroep vergelyk, word beantwoord aan die hand van die volgende tabel wat ’n opsomming is van albei groepe se prestasie (uitgedruk in %) in die voor- en natoets van elk van die vyf temas.

Tabel 3. Opsomming van resultate van voor- en natoetse18

(Klik op die tabel vir ’n groter weergawe.)

Hiervolgens het die laagste punt in die voortoetse van die twee groepe weinig verskil, met die uitsondering van tema 1, kolom 1, waar die laagste punt in die proefgroep wel 24 persentasiepunte beter was as dié van die kontrolegroep.

Die hoogste punt in die voortoets van die eerste vier temas is behaal deur ’n lid van die kontrolegroep. In die vyfde les was albei groepe se hoogste punt in die voortoets 38%. Die laaste twee rye van kolom 2 dui die gemiddelde voortoetsprestasie van die beste studente in die twee groepe aan. Die gemiddeld was onderskeidelik 61% vir die kontrolegroep en 39% vir die proefgroep. Dit wil sê die aanvangswoordeskat van die sterkste individu in die kontrolegroep was gemiddeld 22 persentasiepunte hoër as dié van die sterkste individu in die proefgroep.

In kolom 3, wat die twee groepe se gemiddelde prestasie in die voortoets vergelyk, is daar geen kleurmerke nie, wat daarop dui dat die groepe se aanvangswoordeskat oor die algemeen waarskynlik relatief min verskil. Hierdie waarneming word bevestig in die laaste ry van kolom 3, wat toon dat die gemiddelde aanvangswoordeskat van die twee groepe met slegs 1 persentasiepunt verskil. Hieruit kan afgelei word dat die twee groepe se aanvangswoordeskat ongeveer ewe veel was.

Nadat albei groepe deur die taakfase gegaan het, maar slegs die proefgroep tydens hierdie fase ’n taalspeletjie gespeel het, verskil die natoetsresultate egter merkbaar. Kolom 6 toon dat die gemiddelde natoetsprestasie van die proefgroep met al vyf temas tussen 6 en 28 persentasiepunte hoër was as die gemiddelde natoetsprestasie van die kontrolegroep. Hierdie tendens word bevestig deur die gemiddelde prestasie van die proefgroep, in kolom 8, wat 15 persentasiepunte hoër is as dié van die kontrolegroep. In kolom 5 is die gemiddeld van die hoogste natoetspunt van die proefgroep 7 persentasiepunte hoër as die gemiddeld van die hoogste natoetspunt in die kontrolegroep.

Kolom 7 toon dat die proefgroepdeelnemer wat die kleinste individuele groei gehad het met al vyf temas heelwat meer woordeskat verwerf het as die kontrolegroepdeelnemer met die kleinste individuele groei, onderskeidelik gemiddeld 42 persentasiepunte in die proefgroep en 15 persentasiepunte in die kontrolegroep.

Die grootste individuele groei (kolom 8) toon dieselfde tendens in die twee groepe, waar die gemiddelde grootste groei 69 persentasiepunte was in die kontrolegroep teenoor die 76 persentasiepunte van die proefgroep.

Kolom 9 wys dat die woordeskat van die deelnemers in die kontrolegroep gemiddeld met 45 persentasiepunte toegeneem het, maar dat die woordeskat van die proefgroep se deelnemers gemiddeld met 59 persentasiepunte toegeneem het, wat neerkom op ’n 14-persentasiepunt beter groei in die proefgroep.

Volgens hierdie kwantitatiewe ondersoek blyk dit dus dat die gebruik van ’n taalspeletjie tydens die taakfase bydra tot meer effektiewe woordeskatuitbreiding.

Die tabel toon dat die gemiddelde groei by tema 4 tussen die groepe met slegs 2 persentasiepunte verskil, teenoor die 12 persentasiepunte of meer by die ander temas. Dit is deels as gevolg van die individuele groei van ’n enkeling in die kontrolegroep, deelnemer K6, wie se prestasie met 90 persentasiepunte gestyg het.

6.2.3 In watter mate het taalspeletjies ’n effek op die emosionele belewenis van studente in ’n taalverwerwingsklas?

Die pre-emosie is die emosie wat die deelnemers aan die begin van elke woordeskatles op die tabel in die voortoets aangedui het, terwyl die post-emosie die emosie is wat die deelnemers na afloop van die taak op die tabel in die natoets aangedui het. Ten einde kwantitatiewe verwerking daarvan moontlik te maak, is daar soos volg numeriese waardes aan die emosies toegeken:

☹  Negatief

😐  Neutraal

🙂  Positief

-1

0

1

Ter wille van ’n oorsigtelike blik op die emosies van die twee groepe is tabel 4 saamgestel om die gemiddelde emosionele waardes van die twee groepe in die afsonderlike vyf temas, sowel as die algehele gemiddeld oor die vyf weke, aan te dui.

Die pylvormige simbole is ingevoeg om uit te lig waar die emosiegemiddelde baie positief is (gemerk met groen opwaartse pyle), waar dit ’n relatief neutrale waarde het van 0 tot 0,5 (gemerk met geel horisontale pyle) en waar dit negatief is (gemerk met rooi afwaartse pyle:

Baie positief   Ietwat positief / Neutraal   Negatief

 

Tabel 4. Gemiddelde emosionele waarde

Uit tabel 4 kan drie afleidings gemaak word. Die eerste afleiding is dat daar nie ’n opvallende patroon is wat betref die twee groepe se gemiddelde emosielading aan die begin van die lesse nie. Tweedens is daar nie ’n noemenswaardige verskil tussen die twee groepe se gemiddelde emosielading in die posttaakfase nie. Derdens is dit egter opvallend dat daar geen rooi pyle, oftewel negatiewe emosies, voorkom tydens die posttaakfase nie. Daaruit kan afgelei word dat beide taakgebaseerde onderrigbenaderings, met of sonder spelifiëring, skynbaar ’n positiewe uitwerking gehad het op die deelnemers se emosies.

Ook die kwalitatiewe data bevestig die positiwiteit van die studente. Vervolgens word ter stawing hiervan ’n paar antwoorde van deelnemers uit beide groepe verbatim aangehaal.

Die vraag aan die kontrolegroep was: Do you think the class had an effect on the emotions you experienced?

K1

It made me feel happy, excited.

K2

Once I was not happy, but after the class I felt happy.

K3

Yes, sometimes I started neutral, but I left happy.

K6

I felt curious, thinking: “Am I going to learn something?” And after class I thought: “Oh, I learned a lot!”

K8

Yes, in a positive way! It was very vivid.

K10

Yes, it made me relax.

 

Die vraag aan die proefgroep was: Do you think the language games you played in class had an effect on the emotions you experienced in class?

P4

Yes, it really did. When I come to class I sometimes thought: “What if I have to speak in class, how will I do it?” But then we start the game and interacting with each other and by the end of the lesson I got myself proud because I am learning and knowing the basics of Afrikaans.

P5

Yes, it had an effect. For me my mood really changed. Sometimes when you come from a boring class you are tired and then you come to the Afrikaans class it is all fun. So, your mood would change.

P6

First class in the morning, I sometimes did not feel like learning, but after Afrikaans I felt ready for the workday. The vibe of the whole class was so good, learning new things through games!

P10

Yes, I was already happy coming to class.

 

Deelnemer K6 wat met tema 4 uitgeblink het toe haar woordeskat met 90% verbeter het, het in die voortoets ’n punt van 5% behaal en 95% in die natoets. Dat sy die beste woordeskatgroei in die tema gehad het stem ooreen met die verandering in haar emosionele belewenis, want terwyl al die ander deelnemers van albei groepe se emosie tydens die betrokke tema se lesse óf met een posisie geskuif het óf dieselfde gebly het, was sy die enigste deelnemer wie se emosie van die een uiterste, negatief, na die ander uiterste, positief, geskuif het.

6.3.4 Navorsingsvraag 3: Wat is die effek van taalspeletjies met betrekking tot die student se speletjievoorkeure op sy/haar die woordeskatuitbreiding?

Hierdie vraag word beantwoord met behulp van ’n gevallestudiebenadering wat spesifieke aandag skenk aan deelnemer P4, die enigste deelnemer wat die voortoets en natoets van al vyf woordeskatlesse voltooi het. Tabel 5 gee ’n oorsig van die kwalitatiewe resultate van P4, en sluit die emosionele aanduiding vóór die speletjie en ná die speletjie in, sowel as die leergebaseerde evaluering van die aanvanklike woordeskat, die uiteindelike woordeskat en die woordeskatgroei. Laastens gee dit ook die speletjievoorkeur van die deelnemer weer. Laasgenoemde word gedoen deurdat elke deelnemer die speletjies wat op die finale vraelys verskyn het, in ’n rangorde moes plaas; met die syfer 1 vir die gunstelingspeletjie tot 5 vir die speletjie waarvan die deelnemer die minste gehou het. In die tabel is die syfer 1 van die rangaanduiding van die gunstelingspeletjie vervang met 50%, 2 met 40%, ensovoorts, tot 10% vir die vyfde plek. Die vervanging hiervan het dit ook moontlik gemaak om tendense aan te dui waar die speletjievoorkeur vergelyk word met woordeskatgroei en die prestasie van P4 in die natoetse van elke tema.

Tabel 5. Kwantitatiewe resultate van P4

’n Noemenswaardige tendens wat in tabel 5 sigbaar is, is dat deelnemer P4 die eerste lesuur met ’n negatiewe ingesteldheid begin het en nie tydens daardie periode enige verandering in emosie getoon het nie. Tog het hy goed saamgewerk en het sy aanvanklike woordeskat van 32% met 64 persentasiepunte toegeneem sodat hy byna volpunte in die natoets behaal het. Ook die tweede les het hy begin met ’n negatiewe ingesteldheid, maar sy emosie het tydens dié betrokke lesuur drasties verander na positief. Hy het die oorblywende drie woordeskatlesse telkens positief begin en het deurgaans positief gebly.

Dit is opvallend dat die betrokke deelnemer, P4, se aanvanklike woordeskat (soos vergestalt in die voortoetse) altyd minder as 33% was, maar sy laagste natoetspunt is 75% en sy laagste woordeskatgroei was 50 persentasiepunte. Hoewel hy tydens hierdie laasgenoemde drie lesse meer positief gevoel het, was sy woordeskatgroei in die eerste les meer as tydens lesse twee en vier.

Om dit te probeer verstaan, vergelyk ons onderskeidelik sy prestasie in die natoets en sy woordeskatgroei met die speletjievoorkeure wat hy op die finale vraelys aangedui het. (Let wel, die speletjievoorkeur dui nie werklike persentasies aan nie, maar wel die hoogste voorkeur met die hoogste piek en dan al hoe laer.) Dié twee grafieke, figuur 9 en figuur 10, sien as volg daaruit:

Figuur 9. Speletjievoorkeur en natoetspunt van P4

Figuur 10. Speletjievoorkeur en woordeskatgroei van P4

Dit wil voorkom of P4 se speletjievoorkeur baie ooreenstem met sy natoetsprestasie sowel as sy woordeskatgroei in elk van die lesse, soos blyk uit die twee grafieke hier bo. Die enigste afwyking is met tema 5, wat hy as sy mins gunstelingspeletjie gelys het. Hy het in die kwalitatiewe deel van die reflektiewe vraelys ook hierdie laaste tema se speletjie uitgesonder as die enigste speletjie wat vir hom baie moeilik was. Tog het hy nie die swakste in daardie natoets gedoen nie. Dit is moontlik toe te skryf aan die hoë frekwensie van herhaling wat in die spesifieke speletjie ingebou is. Dit strook ook met die opmerking wat gemaak is deur een van die ondervraagde dosente (D1) in 4.3.1. – “Because when playing, students do not realize that they are repeating – and thus practising – certain structures or vocabulary.”

 

7. Slot

Sigurðardóttir (2010:6) beweer dat die noodsaaklikheid van kommunikasie met die speel van speletjies, sowel as die informele atmosfeer wat speletjies skep, studente aanmoedig om hulle taalvaardigheid te ontwikkel. Dit is juis hierdie bruikbaarheid van spelifiëring in die taalverwerwingsklas wat in die artikel bespreek is.

Die studie het dosente sowel as studente van UNAM as deelnemers betrek. Dit is eerstens gedoen met behulp van ’n vraelys wat voltooi is deur vreemdetaaldosente van Duits, Frans, Portugees en Spaans aan die Universiteit van Namibië wat vanuit hul eie deskundigheid oor die leer en onderrig van tale vir taalverwerwing daaroor inligting gebied het. Uit hierdie ondersoek is 27 kerninsigte afgelei. Dié insigte word in twee dele verdeel, naamlik voordele van spelifiëring en vereistes vir effektiewe spelifiëring:

Die voordele van spelifiëring is dat speletjies

  • pret is vir studente sowel as dosente
  • ’n positiewe effek op die student se emosies het (dit werk byvoorbeeld angs teë en skep ’n positiewe verwagting)
  • energievlakke, motivering en interaksie verhoog
  • herhaling moontlik maak sonder dat dit hinderlik of vervelend is
  • ’n betekenisvolle werklikewêreldkonteks skep waarin leer op ’n natuurlike manier kan plaasvind
  • ’n lewendige en ontspanne atmosfeer skep
  • studente se belangstelling prikkel en behou
  • bruikbaar is in verskeie kulture en tale
  • groepsdinamika verbeter
  • memorisering ondersteun
  • studente laat fokus op die betrokke taal
  • elektronies van aard kan wees
  • buite die klaskamer ingespan kan word vir informele leer.

Aspekte wat in gedagte gehou moet word vir effektiewe spelifiëring, is dat spelifiëring

  • deeglike voorbereiding verg
  • vooraf goed verduidelik moet word
  • met ander onderrigstrategieë afgewissel moet word
  • geleenthede vir dosente skep om op kreatiewe maniere met werk om te gaan
  • oor ’n breë spektrum strek, van waar geen hulpmiddels benodig word nie tot waar tegnologie ingespan word
  • verskillende moeilikheidsgrade het, afhangend van die student se behoefte
  • speletjies aangepas moet word sodat alle studente daarby aanklank vind.

Voorts som ons ons gevolgtrekkings aan die hand van die vier navorsingsvrae op.

Vind daar wel woordeskatuitbreiding met behulp van taalspeletjies in die taalverwerwingsklas plaas?

Die bruikbaarheid van spelifiëring tydens woordeskatonderrig in die Afrikaanstaalverwerwingsklas het duidelik geblyk uit die bevindinge gebaseer op die resultate van die voor- en natoetse. Die studente het in die reflektiewe vraelys aangedui dat dit na hulle mening ’n goeie metode vir woordeskatontwikkeling is. Hierdie mening van hulle is bevestig deur die kwantitatiewe data-ontleding wat getoon het dat die speletjies bygedra het tot ’n gemiddelde woordeskatuitbreiding per tema van onderskeidelik 53, 47, 59, 59 en 75 persentasiepunte.

Wat is die effek van taalspeletjies op woordeskatuitbreiding in ’n taakgebaseerde taalverwerwingsprogram?

Die deelnemers van die proefgroep se woordeskat het nie bloot gegroei nie, maar die woordeskatgroei was boonop merkbaar meer as die deelnemers van die kontrolegroep s’n. Die proefgroep se woordeskatuitbreiding was deurgaans met al vyf temas meer as die proefgroep s’n, en die proefgroep se woordeskatuitbreiding was gemiddeld 14 persentasiepunte hoër as dié van die kontrolegroep. Dit beteken dat die woordeskatonderrig met behulp van spelifiëring inderdaad meer effektief was as daarsonder. Spelifiëring in die taalverwerwingsklas blyk dus baie nuttig en daarom ook belangrik te wees.

In watter mate het taalspeletjies ’n effek op die emosionele belewenis van studente in die taalverwerwingsklas?

Die feit dat die speletjies ’n positiewe invloed op die deelnemers se emosies gehad het, is wel duidelik, maar die ondersoek kon nie bewys dat dit meer positief was as dié van die kontrolegroep nie, aangesien die lesse sonder spelifiëring ook ’n positiewe uitwerking op die kontrolegroep se emosies gehad het. Dit kan moontlik toegeskryf word aan die informele klasatmosfeer en die interaktiwiteit en inklusiwiteit wat deurgaans deur die dosent gehandhaaf is. Abrudan (2008) se standpunt kan ook dien as verduideliking hiervoor, omdat hy sê dat ’n gemotiveerde taalopvoeder ook die taalaanleerders meer gemotiveerd maak. Al die deelnemers, ongeag of hulle deel van die proefgroep of die kontrolegroep was, het op hul vraelyste aangedui dat hulle pret gehad het in die klasse.

Wat is die effek van taalspeletjies met betrekking tot die studente se speletjievoorkeure op sy/haar die woordeskatuitbreiding?

Die gevallestudie van deelnemer P4 het getoon dat daar moontlik ’n verband was tussen die deelnemer se speletjievoorkeur en die woordeskatuitbreiding wat deur die speletjie teweeggebring is. Aangesien die gevallestudie op slegs een student kon fokus wat al die lesse bygewoon het en al die nodige toetse en die vraelys voltooi het, sou verdere navorsing nodig wees om hierdie waarnemings te bevestig. Dit sou ideaal wees as al die deelnemers al die lesse bygewoon het, die toetse geskryf het en die reflektiewe vraelys voltooi het. Hoewel die ideale scenario dalk nie moontlik is nie, behoort verdere studie wat meer data oor hierdie betrokke aspek oplewer, by te dra tot groter insig in die verband tussen prestasie en speletjievoorkeur.

’n Verdere aspek van speletjievoorkeur wat ondersoek kan word, is die moontlikheid om verskillende moeilikheidsgrade van die speletjies te hê. Dit sal vir die student selfs meer beheer gee, wat volgens Pekrun (2006) se beheer-waarde-teorie weer kan bydra tot meer positief-aktiverende emosies. Ook Csikszentmihalyi (1990) se vloeiteorie meld hierdie behoefte, omdat die leerder dan in die posisie kan wees om self die uitdagingsvlak te verhoog (of te verlaag) ten einde akademiese verveeldheid (of angs) teë te werk en die goue middeweg van vloei en optimale leer te bewerkstellig.

Die hoofdoel van die studie was om te bepaal of die gebruik van taalspeletjies in ’n taakgebaseerde onderrigprogram kan bydra tot die uitbreiding van taalverwerwingstudente se woordeskat. Spelifiëring dra by tot die skep van ’n klaskameratmosfeer wat voldoen aan die vereistes wat onder andere Krashen (1982) en Bluiett (2018) aan ’n leeromgewing stel, deurdat dit ’n gemaklike sosiale konteks daarstel wat kan bydra tot die verlaging van die leerders se affektiewe filters en terselfdertyd motivering en genot vermeerder. Aangesien die speletjies geverg het dat die studente in spanne of groepies moes werk, is hulle hoeveelheid praktiese kommunikasie ook gemaksimaliseer (Larsen-Freeman en Anderson 2011).

Die teoretiese sowel as die praktiese navorsing in hierdie ondersoek bevestig dat taalspeletjies beslis in ’n taakgebaseerde onderrigprogram kan bydra tot die uitbreiding van taalverwerwingstudente se woordeskat. Dis moontlik omdat dit al drie vaardigheidsdomeine (Jones en Kahn 2017:5) betrek het, deurdat die deelnemers hulle kognitiewe vaardighede, emosionele vaardighede en interpersoonlike vaardighede moes inspan vir optimale akademiese sinergie sodat hulle mekaar kon ondersteun ten einde die take af te handel.

Soos verduidelik in die lesbeplanning, is die gepaste mate van betrokkenheid deur die taalopvoeder baie belangrik (Walsh, McGuinness en Sproule 2019:1170). Die taalopvoeder moet nie oorbetrokke wees nie, maar het wel ’n belangrike rol om te verseker dat die deelnemers behoorlik ingelig is, en veral te verseker dat hulle in groepe of pare ingedeel word waar studente met verskillende vaardighede en wisselende vaardigheidsvlakke mekaar kan ondersteun.

Die ondersoek het ook getoon dat die effektiwiteit van speletjies in die vreemdetaalklas nie uitsluitlik nuttig is vir kinders en jong studente nie. Hierdie standpunt word benadruk deur die verbatim aanhaling van een van die deelnemers, P10, wat tydens die jaar van die eksperiment reeds met sy meestersgraad besig was: “Keep up the games! It really helps us remember!”

Die taalspeletjies is in hierdie eksperiment gebruik vir wat Sørensen en Meyer (2007:560) formele leer noem, dit wil sê binne klasverband. Speletjies het die potensiaal om gebruik te word vir informele leer buite klasverband. Verdere navorsing kan gedoen word oor die ontwikkeling van meer speletjies wat binne en buite die klas as taalverwerwingshulpmiddel gebruik kan word. Binne die taakgebaseerde onderrigbenadering, wat poog om positiewe leergeleenthede vir verskillende tipes leerders te skep, kan verdere navorsing gedoen word deurdat verskillende leerstyle en selfs persoonlikheidstipes in ag geneem kan word in die spelifiëring van vreemdetaalonderrig.

Spelifiëring is uiters belangrik. Joseph Chilton Pearce, kundige in menslike ontwikkeling, het immers volgens Bluiett (2018:83) gesê: “Play is the only way the highest intelligence of humankind can unfold.”

 

Bibliografie

Abrudan, V. 2008. Motivation in language learning. Annals of the University of Oradeo, Economic Science Series, 17(1):557–62.

Acee, T., H. Kim, H.J. Kim, J. Kim, H. Chu, M. Kim, Y. Cho en F. Wicker. 2010. Academic boredom in under- and over-challenging situations. Contemporary Educational Psychology, 35 (1):17–7.

Adendorff, E. 2013. Kompleksiteit in taakgebaseerde onderrig en leer van Afrikaans as tweede taal binne universiteitskonteks. PhD-proefskrif, Universiteit Stellenbosch.

Alqahtani, M. 2015. The importance of vocabulary in language learning and how to be taught. International Journal of Teaching and Education, 3(3):21–34.

Bell, K. 2014. Online 3.0 – the rise of the gamer educator: The potential role of gamification in online education. PhD-proefskrif, Universiteit van Pennsilvanië.

—. 2018. Game on! Gamification, gameful design and the rise of the gamer educator. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Bluiett, T. 2018. Ready or not, play or not: Next steps for sociodramatic play and the early literacy curriculum: A theoretical perspective. Reading Improvement, 55(3):83–8.

Bosman, N. 2013. Eenders en anders: Die leksikons van Afrikaans en Nederlands in die een-en-twintigste eeu – ’n loodsstudie. Tydskrif vir Letterkunde, 50(3):135–54.

Burke, B. 2014. Gamify: How gamification motivates people to do extraordinary things. Brookline, MA: Bibliomotion Inc.

Bush, J. 2016. The impact of classroom games on the acquisition of second language grammar. Language in Focus Journal, 1(2):1–13.

Caton, H. en D. Greenhill. 2014. Rewards and penalties: A gamification approach for increasing attendance and engagement in an undergraduate computing module. International Journal of Game-Based Learning, 4(3):1–12.

Challco, G., F. Andrade, S. Borges, I. Bittencourt en S. Isotani. 2016. Toward a unified modeling of learner’s growth process and flow theory. Educational Technology & Society, 19(2):215–27.

Combrink, J. 1990. Afrikaanse morfologie. Pretoria: Van Schaik Uitgewers.

Csikszentmihalyi, M. 1990. Flow: The psychology of optimal experience. New York: Harper Collins Publishers.

—. 2003. Good business: Leadership, flow, and the making of meaning. New York: Penguin Books.

—. 2014. Flow and the foundations of positive psychology: The collected works of Mihaly Csikszentmihalyi. Dordrecht: Springer.

Daschmann, E., T. Goetz en R. Stupnisky. 2011. Testing the predictors of boredom at schools: Development and validation of the precursors to boredom scales. British Journal of Educational Psychology, 81(3):421–40.

Dhir, A. 2016. Akademiese verveeldheid. Praatjie gelewer by die Fakulteit Mens- en Sosiale Wetenskappe op UNAM-kampus, Windhoek.

Dorry, G.N. 1966. Games for second language learning. New York: McGraw-Hill.

Ellis, R. 2003. Task-based language learning and teaching. Oxford: Oxford University Press.

—. 2006. The methodology of task-based teaching. Asian EFL Journal, 8(3):19–45.

Figueroa-Flores, J. 2015. Using gamification to enhance second language learning. Digital Education Review, 27(21):32–54.

Forgays, D., T. Sosnowski en K. Wrzesnieski (reds.). 2019. Anxiety: Recent developments in cognitive, psychophysiological, and health research. Washington, DC: Hemisphere.

Gass, S. en L. Selinker. 2001. Second language acquisition: An introductory course. Mahweh: Lawrence Erlbaum Associates.

Genis, P.F. 2020. Die gebruik van taalspeletjies as hulpmiddel vir woordeskatontwikkeling in ’n taakgebaseerde onderrigprogram vir taalverwerwingstudente. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Gerber, H. 2014. Problems and possibilities of gamifying learning: A conceptual review. Internet Learning, 3(2):46–54.

Greyling, A. 2014. Die ontwerp van ’n kursus vir Afrikaans vir spesifieke doeleindes vir eerstejaar-onderwysstudente binne die taakgebaseerde benadering. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Griffiths, C. 2018. The strategy factor in successful language learning – The tornado effect. Bristol: Multilingual Matters.

Harvey, S. en K. Jarrett. 2014. Review of the game-centred approaches to teaching and coaching literature since 2006. Physical Education and Sport Pedagogy, 19(3):278–300.

Herrero, A.H. 2006. Characteristics of successful tasks which promote oral communication. Communicación, 15(1):46–56.

Jones, S. en J. Kahn. 2017. The evidence base for how we learn: Supporting students’ social, emotional, and academic development. The Aspen Institute: National Commission on Social, Emotional, and Academic Development.

Kapp, K.M. 2012. The gamification of learning and instruction: Game-based methods and strategies for training and education. San Francisco: John Wiley & Sons.

Ketonen, E. 2007. The role of motivation and academic emotions in university studies. The short- and long-term effects on situational experiences and academic achievement. PhD-proefskrif, Universiteit van Helsinki.

Killian, E. 2013. Gamification 2.0 – A concept. Eamonn Killian.

Krashen, S. 1982. Principles and practice in second language acquisition. Oxford: Pergamon Press Inc.

Kruger, E. en M. Poser. 2007. Taakgerigte aktiwiteite om die kommunikasievaardighede van addisioneletaal-leerders in Afrikaans te ontwikkel. Tydskrif vir Taalonderrig, 41(1):1–14.

Larsen-Freeman, D. en M. Anderson. 2011. Techniques & principles in language teaching. Oxford: Oxford University Press.

Marczewski, A. 2013. Gamification: A simple introduction. Verenigde Koninkryk: Andrzej Marczewski.

McLeod, S.A. 2019. Constructivism as a theory for teaching and learning. Simply Psychology. https://www.simplypsychology.org/constructivism.html (23 Februarie 2020 geraadpleeg).

Nunan, D. 2010. Task-based language teaching. Londen: Cambridge University Press.

Pekrun, R. 2006. The control-value theory of achievement emotions: Assumptions, corollaries, and implications for educational research and practice. Educational Psychology Review, 18(4):315–41.

—. 2019. Expectancy-value theory of anxiety: Overview and implications. In Forgays, Sosnowski en Wrzesnieski (reds.) 2019.

Pekrun, R., T. Goetz, W. Titz en R. Perry. 2002. Academic emotions in students’ self-regulated learning and achievement: A program of qualitative and quantitative research. Educational Psychologist, 37(2):91–105. https://d-nb.info/1115472046/34 (18 Januarie 2017 geraadpleeg).

Sass, J. 2017. Die gebruik van Afrikaanse musiek met lirieke as pedagogiese hulpmiddel vir die aanleer van woordeskat en uitspraak by taalverwerwingstudente. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Schell, J. 2010. When games invade real life. DICE Summit. https://www.ted.com/talks/jesse_schell_when_games_invade_real_life (18 Januarie 2017 geraadpleeg).

Schrader, C. en U. Nett. 2018. The perception of control as a predictor of emotional trends during gameplay. Learning and Instruction, 54:62–72.

Shernoff, D., M. Csikszentmihalyi, B. Schneider en E. Shernoff. 2014. Student engagement in high school classrooms from the perspective of flow theory. In Csikszentmihalyi 2014.

Sigurðardóttir, S. 2010. The use of games in the language classroom. Ongepubliseerde werkstuk vir BEd-graad, Iceland College of Education.

Sørensen, B.H. en B. Meyer. 2007. Serious games in language learning and teaching – a theoretical perspective. Referaat gelewer by die DiGRA-konferensie. http://www.digra.org/wp-content/uploads/digital-library/07312.23426.pdf (30 Maart 2017 geraadpleeg).

Uberman, A. 1998. The use of games: For vocabulary presentation and revision. English Teaching Forum, 36(1):20–7. https://www.academia.edu/1082852/The_use_of_games_for_vocabulary_presentation_and_revision (13 April 2017 geraadpleeg).

Walsh, G., C. McGuinness en L. Sproule. 2019. ‘It’s teaching … but not as we know it’: Using participatory learning theories to resolve the dilemma of teaching in play-based practice. Early Child Development and Care, 189(7):1162–73. https://doi.org/10.1080/03004430.2017.1369977 (22 Augustus 2019 geraadpleeg).

Willis, J. 1996. A framework for task-based learning. Londen: Longman.

Willis, D. en J. Willis. 2007. Doing task-based teaching. Oxford: Oxford University Press.

Wilson, S. 2015. Increasing student engagement through gamification. MA-verhandeling, Vancouver Island Universiteit.

Wright, A., D. Betteridge en M. Buckby. 1984 Games for language learning. Cambridge: Cambridge University Press.

Yang, J. 2012. The affective filter hypothesis and its enlightenment for college English teaching. Psychology Research, 7:40–4.

Zheng, Y. 2008. Anxiety and second/foreign language learning revisited. Canadian Journal for New Scholars in Education, 1(1):1–12.

 

Eindnotas

1 ’n Nuwe Afrikaanse term is vir die doel van hierdie studie geskep, naamlik spelifiëring (“gamification”). Hierdie Afrikaanse term is gevorm na aanleiding van die bestaande Sweedse term spelifiering, uitgespreek [spelifieriŋ]. Die deelteken op die tweede “ë” van die Afrikaanse woord is nodig ten einde die korrekte uitspraak in Afrikaans te verseker. Spelifiëring [spelifieriŋ] word as selfstandige naamwoord gebruik. Anders as in die geval van spelifikasie, kan die werkwoord spelifieer [spelifie:r] maklik van die selfstandige naamwoord spelifiëring afgelei word. Die Germaanse stam speel pas morfologies ook beter by die Germaanse suffiks -ifiëring as by die Romaanse suffiks -ifikasie.

2 Hierdie artikel is ’n aangepaste weergawe van die MA-verhandeling van Genis 2020.

3 Die terme taalaanleer en taalverwerwing word dikwels in die navorsing oor taalverwerwing as sinonieme gebruik omdat effektiewe kommunikasie beide vloeiende en akkurate taalgebruik insluit. Taalaanleer lei gewoonlik tot akkurate taalgebruik terwyl taalverwerwing tot vloeiende taalgebruik lei.

4 Die teorie van konstruktivisme impliseer volgens McLeod (2019:1) dat onderrig en leer ’n dinamiese proses is wat sosiaal, kultureel en binne ’n bepaalde konteks gestruktureer en uitgebou word.

5 Die term tweedetaalverwerwing is volgens Gass en Selinker (2001:198) ’n oorkoepelende term wat verwys na die aanleer en verwerwing van ander tale naas die eerste taal. Dit sluit die aanleer en verwerwing van derde en vierde tale in.

6 Die studie fokus spesifiek op Namibiese studente (en dus ook op die Namibiese skoolstelsel); daarom word die terme hoër graad en standaardgraad gebruik.

7 In Namibië word daar na tweede taal eerder as eerste addisionele taal as verwys. Met tweede taal word bedoel enige taal wat aangeleer word naas die persoon se eerste taal.

8 Vreemdetaalsprekers is sprekers wat nog nie voorheen die doeltaal aangeleer het nie, of in ’n beperkte mate. Dit is sprekers wat informeel met die taal te doen gekry het in ’n nie-opvoedkundige situasie. Hulle het dus geen of min kennis van die taal – in hierdie geval Afrikaans – nie.

9 Nultaalsprekers is sprekers wat nog nooit die doeltaal – in hierdie geval Afrikaans – aangeleer het nie. Hulle het dus geen kennis van die taal nie.

10 Die PVATN bestaan uit Afrikaansdosente en -onderwysers van regoor Namibië.

11 Afrikaans as vreemde taal word nie in Namibiese skole aangebied nie.

12 Met “bevoorregte studente” verwys ons na studente wat in ’n skool was met goeie infrastruktuur, onder meer elektrisiteit en internettoegang, waar die gebruik van byvoorbeeld rekenaars in die klaskamer plaasgevind het.

13 Die Duitse spiel in plaas van speel, en die uitspraak van die z [ts] het daartoe gelei dat die Afrikaanse vorm spelifisering afgelei van die Duitse term nie onmiddellik by ons as moontlikheid opgekom het nie. Daarteenoor het die Sweedse spelifiering se uitspraak maklik gelei na die Afrikaanse spelifiëring, aangesien dit slegs ’n deelteken gekort het om dieselfde uitspraak in Afrikaans te hê. Daar is blykbaar steeds nie ’n enkele term in Duits vasgestel nie, aangesien hulle vier moontlikhede lys, naamlik Gamifikation, Gamifizierung, Spielifikation en Spielifizierung. Al vier uitsprake is ver verwyderd van Afrikaans (https://de.langenscheidt.com/englisch-deutsch/gamification [2 Maart 2021 geraadpleeg]).

14 Daar is vir die nodige etiese klaring aansoek gedoen. Volgens die regulasies van die Universiteit Stellenbosch is daar om etiese klaring aansoek gedoen by die Departementele Etiek-Siftingskomitee (DESK) en die nodige toestemming is gegee om met die proses voort te gaan. Die aard van die navorsing was sodanig dat dit minimale risiko van enige ongemak vir die deelnemers inhou. DESK se etiese goedkeuring is saam met al die ondersteunende dokumentasie voorgelê aan die Universiteit van Namibië se navorsingsetiekkomitee (UREC – University of Namibia Research Ethics Committee). UREC het ook die navorsing as ’n laerisiko-ondersoek bevestig en daarna ’n etieseklaringsertifikaat uitgereik met die verwysingsnommer FHSS/325/2017.

15 Hierdie toetse en vraelyste word apart aangeheg as bylae.

16 Verduidelikings vind plaas deur ’n kombinasie van mimiek en gebarespel.

17 Elke span ontvang ’n karton-wyserhorlosie waarop die wysers kan draai. Om die beurt wys ’n lid van die een span die horlosie vir die ander span terwyl hy/sy vra: “Hoe laat is dit?” Die ander span moet antwoord.

18 Waar die toetsresultate van die een groep met 20 of meer persentasiepunte van die ander groep s’n verskil het, is dit met behulp van kleur op die tabel uitgelig. Indien dit die kontrolegroep was wat ≥ 20% hoër as die proefgroep was, is dit met blou gemerk. Indien dit die proefgroep se resultate was wat ≥ 20% hoër as dié van die kontrolegroep was, is die hoogste punt met groen gemerk.

 

Bylae

Voorbeeld-lesplanne van die gebruik van taalspeletjies as hulpmiddel vir woordeskatuitbreiding in ’n taakgebaseerde onderrigprogram vir taalverwerwingstudente

Ons verskaf vyf voorbeelde van taakgebaseerde lesse waarin taalspeletjies gebruik word om woordeskatuitbreiding en -ontwikkeling te bevorder.

Die stappe van die vyf taakgebaseerde lesse lyk soos volg:

Pretaak

Dit is die fase waarin die voortoets geskryf word. In die eerste afdeling van die voortoets dui die studente aan of hulle aanvanklike emosie positief, neutraal of negatief is. Die tweede afdeling is vrae oor die dag se tema om die aanvangswoordeskat van die studente te bepaal. Na ongeveer 10 minute handig hulle die toetse in.

Taak

1. Opdrag

Die dosent behandel die dag se tema met die studente en verduidelik hoe die woordeskat ingeoefen sal word. Die dag se speletjie word verduidelik en na gelang van die speletjie word die klas opgedeel in pare/kleingroepies of twee spanne.

2. Uitvoering

Die taalspeletjie word gespeel.

3. Rapportering

Die deelnemers bepaal wie die speletjie gewen het.

Posttaak

Ontleding

Dit is die fase waarin die natoets geskryf word. Hierdie toets is in alle opsigte identies aan die voortoets. Die eerste afdeling van die voortoets bestaan uit ’n tabel waarop die studente aandui of die emosie wat hulle op daardie stadium ervaar positief, neutraal of negatief is. Die tweede afdeling is vrae oor die dag se tema om die uiteindelike woordeskat van die studente te bepaal. Na ongeveer 10 minute handig hulle die toetse in.

Oefening

Die dosent deel die dag se notas met korrekte antwoorde uit en motiveer die deelnemers tot woordeskatvaslegging deurdat hulle dit tuis gaan hersien en in die praktyk gebruik.

 

Figuur 1. Taakgebaseerde lesraamwerk opgestel volgens Ellis (2006:80)

Tydens die pretaakfase voltooi die studente ’n voortoets met twee afdelings. Hulle moet dit in daardie volgorde doen. Die eerste deel is ’n tabel waarop hulle moet aandui hoe hulle op daardie stadium voel deur bloot ’n regmerkie te maak in die gepaste blokkie op die emosietabel. Die rede vir hierdie afdeling is om te sien of daar ’n verskil is tussen die studente se emosionele ingesteldheid aan die begin en aan die einde van die klas. Dit is byvoorbeeld moontlik dat die student se emosies meer positief raak as hy/sy aanvanklik huiwerig of bang gevoel het, maar later opgewonde voel. Netso is dit ook moontlik dat dit meer negatief raak as die student na afloop van die taakfase oorweldig of verveeld voel.

Gedurende elkeen van die periodes se pretaakfase ontvang elke student eerstens ’n toets om te voltooi. Gedurende die laaste paar minute van die lesuur, tydens die posttaakfase, kry hulle die geleentheid om ’n natoets te voltooi wat in alle opsigte identies aan die voortoets is.

Die tweede afdeling is ’n woordeskattoets oor die betrokke dag se tema. In die voortoets gee hierdie afdeling ’n aanduiding van wat elke student se aanvangswoordeskat is. In die natoets maak die afdeling dit moontlik om te sien of die studente se woordeskat deur die loop van die lesingtyd toegeneem het al dan nie, en in hoe ’n mate.

Die vergelyking van die punte wat die studente behaal in die voor- en natoetse is kwantitatief van aard sodat elke student sy/haar eie vordering kan sien.

Die vyf lesse word vervolgens verduidelik.

Tema 1: Aksiewerkwoorde

Taalfokus

Die fokus val op die uitbreiding van die studente se woordeskat wat aksiewerkwoorde betref. By hierdie les word daar ook van vertaling gebruik gemaak. Deurdat hulle die aksiewerkwoorde met sowel die Engelse ekwivalent as die prentjie assosieer, behoort die studente dit goed te begryp. In die geval van die speletjie wat gespeel word, gebruik die studente boonop beweging wat die woordeskat soveel te meer inskerp, aangesien die totale-fisiese-respons- (TFR-) benadering gebruik word. In dié benadering word liggaamstaal en -beweging gesinkroniseer deur die gebruik van aksies / reaksies en direkte bevele.

Pretaak

Elke student voltooi die voortoets. Wat die woordeskatafdeling betref, moet hulle onder elkeen van die 25 prentjies die werkwoord skryf wat pas by die aksie van die prentjie.

Naam: _____________________________________

Ek voel nou ...

🙂  Positief

😐  Neutraal

☹  Negatief

 

Skryf die regte werkwoord by elke prentjie:

[Uit: My eerste duisend woorde]

Taak

Die dosent deel vir elke student ’n papier met die aksiewerkwoorde se prentjies uit en skryf die Afrikaanse aksiewerkwoorde met die Engelse ekwivalente op die witbord sodat hulle die regte antwoorde op hulle papiere kan skryf.

Die studente sit twee-twee saam en speel stomstreke (die gebruik van mimiek en gebarespel) vir ’n paar minute. Die een student probeer ’n aksiewerkwoord namaak terwyl sy/haar spanmaat probeer raai watter een van die aksiewerkwoorde dit is. Hierdie tussenstap voordat die spanspeletjie begin help die studente om eers vertroud te raak met die prosedure en behoort hulle ook reeds op hulle gemak te stel voordat hulle voor die hele span moet demonstreer of raai.

Na ’n paar minute word die klas in twee spanne verdeel. Die dosent maak onopsigtelik seker dat daar vaardiger taalgebruikers in beide spanne is. Elke span kies vir hulle ’n naam wat die dosent op die bord skryf. Daar word ’n skeidsregter vir elke groep aangewys wat die span se punte op die bord aanbring. Die twee spanne speel gelyktydig. Dit dra daartoe by dat die studente in interaksie met mekaar is, maar dat slegs die helfte van die klas se aandag op ’n gegewe oomblik op die student is, wat die situasie minder intimiderend maak. Die studente maak beurte om ’n aksiewerkwoord deur middel van gebare uit te beeld en die res van die span moet raai. Sodra iemand reg geraai het, ken die skeidsregter nog ’n punt aan die span toe en skryf dit op die witbord. Die dosent maak seker dat almal ’n kans kry om deel te neem. Die span met die meeste punte wen.

Posttaak

Die posttaak behels dat elke student weer die pretaaktoets skryf.

Tema 2: Tyd

Taalfokus

Die les fokus daarop om te leer hoe om vir iemand te vra hoe laat dit is en in goeie Afrikaans korrek op die vraag te reageer. Die dosent onderskei eers met behulp van die witbord tussen die verskeie korrekte moontlikhede en dit wat nie goeie Afrikaans is nie.

Pretaak

Elke student voltooi die voortoets. Wat die woordeskatafdeling betref, moet hulle getalle in woorde skryf en ook langs die prentjies van die horlosies skryf hoe laat dit daarop is.

Naam: _____________________________________

Ek voel nou ...

🙂  Positief

😐  Neutraal

☹  Negatief

 

1. Hoe laat is dit? Skryf elke keer die tyd in woorde.

🕐

Dit is nou eenuur.

🕛

Dit is nou

🕖

Dit is nou

🕒

Dit is nou

🕑

Dit is nou

08:45

Dit is nou

06:27

Dit is nou

11:55

Dit is nou

09:36

Dit is nou

04:30

Dit is nou

02:15

Dit is nou

 

2. Gee die telwoord vir elkeen van die volgende getalle.

16

sestien

25

 

43

 

8

 

12

 

 

Taak

Die studente hersien eers kortliks die getalle tot sestig, wat reeds in ’n vorige les behandel is. Die dosent draai die wysers op die kartonhorlosie en vra die studente om die tyd in syfers neer te skryf. Daarna vra sy of iemand weet hoe om die tyd wat in syfers aangedui is in woorde te sê. Sy skryf byvoorbeeld 10:15 op die witbord en ’n student skryf dan langsaan “kwart oor tien”. Indien die student ’n fout gemaak het, help sy hom/haar reg en skryf die korrekte woorde neer.

’n Kort dialoog word aan die studente uitgedeel sodat hulle kan sien hoe ’n mens vra hoe laat dit is en hoe om die vraag korrek te beantwoord. Die hele klas lees die dialoog hardop. Die dosent bespreek ook met hulle uitdrukkings soos “Dit is amper halfvyf”, “Dis so nege-uur” en “Dit is net na twaalf”. Hulle leer ook dat “Wat is die tyd?” nie goeie Afrikaans is nie. Daarna word hulle in twee spanne ingedeel en die taalspeletjie word aan hulle verduidelik.

Vir die draai-en-raai-tydspeletjie word karton-wyserhorlosies gebruik. Die klas word in twee spanne verdeel. Die dosent doen moeite om die vaardiger taalgebruikers wat sy tydens die pretaakfase opgemerk het, eweredig tussen die twee spanne te verdeel. Die spanne kies hulle eie spanname, wat op die bord geskryf word sodat die telling gehou kan word. Die gebruik van die spanname haal die fokus van die individue af, maar dra terselfdertyd by tot ’n samehorigheidsgevoel. Die kompetisiefaktor dra voorts by tot die opwinding wat die speletjie meebring.

Elke span ontvang ’n karton-wyserhorlosie waarop hulle die wysers draai om ’n spesifieke tyd aan te dui en ’n knipbord met genoeg papier. Om die beurt wys ’n lid van die een span die horlosie vir die ander span terwyl hy/sy vra: “Hoe laat is dit?” of “Weet julle dalk hoe laat dit is?” Die ander span mag eers onderling ’n dinkskrum hou sodat hulle mekaar kan reghelp. Daarna moet een spanlid die tyd in syfers op die knipbord skryf en die bord vir die ander span wys terwyl hy/sy vra: “Is dit só laat?” of “Is dít hoe laat dit is?” Die eerste span antwoord dan deur te sê: “Nee, jammer, julle is ongelukkig verkeerd” of “Ja, mooi so, julle is reg!” Indien hulle verkeerd is, kry hulle geen punt nie, maar die eerste span skryf dan vir hulle op ’n knipbord die regte tyd in syfers, byvoorbeeld “12:14”. Indien hulle reg was, kry hulle een punt. Daarna kan hulle weer ’n dinkskrum hou voordat een van hulle die tyd in woorde in ’n volsin sê, byvoorbeeld: “Dit is veertien oor twaalf” of “Dis amper kwart oor twaalf”. Sodoende kan hulle (weer) ’n punt verdien. Daarna is dit hulle beurt om hul horlosie se wysers te draai en vir die ander span te vra hoe laat dit is. Indien enige spanlid vra “Wat is die tyd?” word daar ’n punt by die span se totaal afgetrek. Die span wat na 15 minute die meeste punte het, is die wenspan.

Posttaak

Die posttaaktoets is dieselfde as die pretaaktoets.

Tema 3: Bewegingsinstruksies

Taalfokus

Die fokus van die les is hoe om bewegingsinstruksies te gee. Daarom skryf die dosent voorbeeldsinne of -frases op die bord wat die studentepare kan gebruik om met mekaar te kommunikeer.

Pretaak

Elke student voltooi die voortoets. Wat die woordeskatafdeling betref, moet hulle woordeskat rakende bewegingsinstruksies weergee.

Naam: _____________________________________

🙂  Positief

😐  Neutraal

☹  Negatief

 

Skryf die Afrikaanse woorde vir elk van die Engelse woorde neer.

red, orange, green

drive straight, drive forward

turn left, turn right

slower, faster

careful

stop


Skryf instruksies vir die muis se pad tot by die kaas.

 

 

 

 

Taak

Die dosent vra die studente of hulle weet hoe om in Afrikaans “move forward”, “turn left”, “turn right”, “go faster”, “slow down” en “stop” te sê. Sy skryf telkens die korrekte Afrikaanse instruksies op die witbord. Sy werk saam met die klas die instruksies uit vir die pad wat die seun moet loop om by sy rugsak te kom en skryf dit op die bord.

Die instruksies vir die pad wat die seun moet loop is:

Stap vorentoe. Draai links.
Stap vorentoe. Draai regs.
Stap vorentoe. Draai regs.
Stap vorentoe. Draai links.
Stap vorentoe. Stop.

 

Elke student kry ’n papiertjie met die verkeerslig en liedjiewoorde op. Die dosent wys die verkeerslig en vra of iemand weet wat dit in Afrikaans genoem word. Sy vra ook of iemand die drie kleure in Afrikaans kan sê en ook wat elkeen van die kleure beteken. Daarna leer hulle die liedjie met bypassende handgebare.

 

Ek ry in my mooi motorkar en saam met my ry Bob.
En as ek by die rooi lig kom dan weet ek: ons moet stop!
“Stop!” sê die rooi lig. “Ry!” sê die groen.
“Oppas!” sê oranje. “Oppas wat jy doen!”

 

Almal staan op en sing die liedjie saam.

Vir die tema oor rigting en beweging word ’n heellyfspeletjie met baie beweging gebruik – dit is die TFR-benadering. Die enigste hulpmiddels wat benodig word, is drie vlaggies wat onderskeidelik rooi, oranje en groen is.

Indien die aantal studente ’n ewe getal is, kan die dosent die rol van die verkeerslig vertolk sodat daar ’n ewe getal studente is wat hulleself in pare kan opdeel. Indien die deelnemers ’n onewe getal is, vra die dosent vir ’n vrywilliger om die rol van die verkeerslig te speel. Indien meer as een graag die verkeerslig wil wees, kan hulle beurte maak. Die rol van die verkeerslig is om alternerend die groen, oranje of rooi vlaggie in die lug te hou terwyl hy/sy die kleur herhaaldelik hardop sê. Aangesien die studente self kies saam met wie hulle wil speel, verhoog dit hulle beheer en kry hulle die geleentheid om ’n maat te kies saam met wie hulle gemaklik kan wees. Elkeen van die pare besluit ook self wie eerste die motor gaan wees terwyl die ander maat wat agter hom/haar loop die bestuurder is.

Hulle beweeg in die klas rond, maar moet deurgaans na die verkeerslig loer en luister. Die bestuurder gee instruksies vir die motor, byvoorbeeld “ry reguit”, “draai links” of “draai regs”. Na aanleiding van wat die verkeerslig se kleur is, moet die bestuurder ook sê “ry vinniger!”, “ry stadiger!” en “stop!” Na ’n paar minute moet hulle rolle omruil. Sodoende kry die student wat gemakliker is om te praat eerste die geleentheid daarvoor, terwyl die ander student later die maat se voorbeeld kan volg.

Posttaak

Die posttaak behels dat elke student ’n natoets skryf wat identies is aan die voortoets wat hulle in die pretaak gedoen het.

Tema 4: Teenoorgesteldes

Taalfokus

Die taalfokus is op die aanleer van teenoorgesteldes. Die studente moet ook weet hoe om dit in sinne te gebruik; juis daarom skryf die dosent sinne op die bord wat as voorbeeld kan dien wanneer hulle mekaar uitvra oor die teenoorgesteldes en die kaartjies vir die res van die klas verduidelik. Hoewel hulle reeds in ’n voorafgaande les dit geleer het, kry hulle tydens hierdie periode ook die geleentheid om te oefen om eers hulleself en later ook hulle maat voor te stel.

Pretaak

Elke student ontvang die voortoets wat bestaan uit die emosietabel en ’n woordeskatkomponent waarin sy/haar aanvangswoordeskat rakende teenoorgesteldes bepaal word. Hulle kry ’n paar minute om dit te voltooi.

Naam: _____________________________________

Ek voel nou …

🙂  Positief

😐  Neutraal

☹  Negatief

 

Skryf die regte teenoorgesteldes in die oop spasies.

1

Die seun is nat, maar die meisie is ___________.

2

Dit is lekker warm voor die vuur, maar dit is __________ in die sneeu.

3

Fina gaan op met die trappe, maar Helao gaan ________ met die trappe.

4

Die geskenk was bo, maar nou is dit_____________ in die kas.

5

Tangeni ry eers vorentoe en dan ry hy _________________.

6

Susan lyk vrolik, maar Dinette lyk _________________.

7

Christine lag, maar Johanita _____________.

8

Die donkie stap stadig, maar die resiesperd hardloop _____________.

9

Die dwerg is klein, maar die reus is _____________.

10

Die toutjie is kort, maar die tou is ____________.

11

Die paaltjies is dun, maar die pale is _______.

12

Nou is dit dag, maar om 23:00 is dit _______.

13

Die venster is glad, maar die muur is ___________.

14

Eers was die bottel vol, maar nou is dit ___________.

15

Die vrouens is baie, maar die mans is ____________.

16

Petrus stap in, maar Salmi stap ________.

17

Die een deur is toe, maar die ander deur is __________.

18

Die hond is onder die tafel, maar die voël is __________ die tafel.

19

Die grys kat staan agter die boom, maar die wit kat sit ______ die boom.

20

Die pa is sterk, maar sy seuntjie is nog ____________.

 

Daarna skryf die dosent ’n paar voorbeelde van teenoorgesteldes op die bord. Dit word in volsinne geskryf sodat die studente in die taak van soortgelyke sinne gebruik kan maak.

Taak

Vir die tema oor teenoorgesteldes word die speletjie van Toy and Puzzle World, genaamd Teenoorgesteldes, gebruik. Dit bestaan uit 60 stukke wat 30 selfkorrigerende, ineensluitende tweestuk-legkaarte vorm.

Die taalspeletjie word vir hulle verduidelik en die dosent skryf ook voorbeelde van moontlike formate vir vrae en antwoorde op die bord neer, byvoorbeeld: “Die woord wat ek het, is dag. Wat staan op jou stuk?”; “Ek het nat. Het jy dalk droog?”; “Hier is dag. Weet jy wat ek moet soek?”; of “Pas joune dalk by myne?”

Die dosent skommel doelbewus die legkaartstukke sodat die bypassende stukke nie direk na mekaar uitgedeel word aan studente wat langs mekaar sit nie. Elkeen kry lukraak een legkaartstuk met ’n woord sowel as die prentjie wat dit uitbeeld. Waar die studente tydens die vorige les self hulle maat gekies het, en ook hoofsaaklik met slegs daardie persoon gekommunikeer het, neem hierdie les hom/haar ’n stap verder deurdat dit kommunikasie met verskeie klasmaats verg. Die studente kan steeds begin by ’n klasmaat by wie hulle die meeste op hulle gemak voel, maar beweeg dan verder in die klas rond op soek na die persoon wat hul legkaartstuk se teenoorgestelde het. Hulle moet elke keer eers hulle klasmaat beleefd groet en dan gesels oor hulle kaartjies en kyk of hul legkaartstukke moontlik in mekaar pas. Indien hulle nie bypassende legkaartstukke het nie, kan hulle mekaar raad gee oor wat waarskynlik op elkeen se bypassende legkaartstuk sou staan. Sodra die regte paar mekaar gekry het, moet hulle saam gaan sit en gesels sodat hulle na afloop van die speletjie hulle maat aan die res van die klas kan voorstel voordat hulle die regte legkaartstukke vir die klas lees en wys. Omdat die legkaartstukke presies in mekaar moet pas, maak dit voorsiening vir onmiddellike terugvoering, een van die vereistes van effektiewe spelifiëring.

Posttaak

Die studente voltooi die toets – sien pretaaktoets.

Tema 5: Vrugte en groente

Taalfokus

Die fokus is op die aanleer van benamings vir vrugte en groente, sowel as die meervoudsvorme. Daarom skryf die dosent die meervoude op die bord. Sy herhaal as hersiening kortliks hoe ’n mens sê dat jy van iets hou of nie.

Pretaak

Elke student skryf die voortoets sodat die emosie en aanvangswoordeskat rakende vrugte en groente en die meervoudsvorme daarvan bepaal kan word.

Naam: _____________________________________

🙂  Positief

😐  Neutraal

☹  Negatief

 

Skryf die enkelvoud en meervoud vir elke prentjie neer.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Taak

Die dosent vra die studente of hulle die Afrikaanse benamings ken van vrugte en groente op die kaartjies wat sy aan hulle wys. Sy gebruik eers die kaartjie wat slegs die prentjie vertoon. Hulle kan dan die Afrikaanse woorde sê wat hulle ken, en ook wat dit in Engels is. Dan wys sy die flitskaartjie waarop hulle die prentjie sowel as die naam daarvan kan sien en vra of iemand die meervoudsvorm ken. Sy skryf dan die meervoudsvorm op die witbord en verduidelik dat sommige woorde, bv. blaarslaai, nie meervoudsvorme het nie. Sy vra by sommige van die vrugte of die studente daarvan hou of nie, ter wille van deurlopende interaktiwiteit.

Vir die tema oor vrugte en groente word die kartonflitskaartjies wat die dosent self gemaak het soos geheuekaarte of “memory cards” gebruik. Die taalspeletjie word vir hulle verduidelik en die studente gaan sit in klein groepies van twee of drie. Waar die studente tydens die vorige twee lesse stelselmatig meer blootgestel is aan kommunikasie met ander klasmaats as dié langs wie hulle gewoonlik sit, verhoog hierdie speletjie weereens die uitdagingsvlak, aangesien die dosent besluit saam met wie die studente in groepies van twee of drie moet sit. Die dosent sit doelbewus studente wat nog nie baie met mekaar gepraat het nie in dieselfde groepies. Dit stel hulle bloot aan ’n werklikewêreldkonteks ten einde hulle aan te moedig om met vreemdelinge te kommunikeer. Die dosent probeer weereens verseker dat daar per groepie ’n vaardiger taalgebruiker is wat die ander kan reghelp en ondersteun. Sodoende word ook die vaardiger taalgebruiker se selfvertroue gebou.

Elke groepie pak hulle kaartjies uit met die gedrukte kant na onder. Hier kry die studente weer die gevoel van beheer, aangesien elke groepie self kan besluit of hulle dit in netjiese rye wil pak of eerder rond en bont. Dan maak hulle beurte om telkens twee kaartjies om te draai, met die hoop om ’n pakkie van twee bypassende kaartjies te maak. Wanneer iemand ’n kaartjie omdraai, moet hy/sy die vrug of groente op die kaartjie se naam in enkelvoud en meervoudsvorm hardop sê, byvoorbeeld “aarbei, aarbeie”. Die ander in die groep kan sy/haar uitspraak van die woord korrigeer indien hulle nie saamstem met hoe dit gesê is nie. Die dosent gebruik ook die geleentheid om tussen die banke deur te stap en die studente te herinner om die woorde op die kaartjie elke keer te lees, en ook die uitspraak te help regstel waar nodig. Wanneer ’n student twee kaartjies van dieselfde vrug of groente in een beurt omdraai, kan hy/sy die pakkie vat. In elke groepie is die een wat die meeste pakkies het wanneer die tyd om is die wenner.

aarbei
aarbeie
aarbei
aarbeie

 

Sodra al die kaartjies opgetel is, moet hulle beurte maak om hul pakkies vir die ander te wys en te sê of hulle van die betrokke vrugte of groente hou al dan nie. Die studente wat ’n ekstra uitdaging soek, kan ook redes aanvoer vir hulle voor- of afkeure.

Posttaak

In die posttaakfase voltooi die studente die natoets wat identies is aan die voortoets wat in die pretaak gedoen is.

Bibliografie

Amery, H. 1982. My eerste duisend woorde: ’n Prente-woordeboek. Kaapstad: Tafelberg.

Ellis, R. 2006. The methodology of task-based teaching. Asian EFL Journal, 8(3):19–45.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Die gebruik van spelifiëring (“gamification”) as hulpmiddel vir woordeskatuitbreiding in ’n taakgebaseerde onderrigprogram vir taalverwerwingstudente appeared first on LitNet.


Aantekening: Deliktuele aanspreeklikheid vir skade veroorsaak deur outonome (selfbesturende) voertuie

$
0
0

Aantekening: Deliktuele aanspreeklikheid vir skade veroorsaak deur outonome (selfbesturende) voertuie

Johann Neethling, Departement Privaatreg, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 18(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Abstract

Delictual liability for damage caused by autonomous vehicles

Unlike South Africa, several other countries have introduced legislation regulating the use of autonomous (self-driving) vehicles. In this note the position in the United Kingdom and Germany is examined. These results can be used as guidelines for developing legislation in our country. The main features are as follows. The vehicle should be registered and dispose of a roadworthy certificate certifying that it has the technical ability (automatic system) to carry out its driving task. A driver should at all times be present in the vehicle. A regime of strict liability should be created for loss caused by the vehicle. The loss should be borne by an insurer or (in the absence of insurance) the owner. The liable party should be able to seek recourse from a third party who caused the loss negligently (for example the driver) or from the manufacturer of the vehicle if a defect caused the loss. In order to ascertain liability a black box should be installed in autonomous vehicles. Vis maior should be recognised as a complete defence while the contributory negligence of the victim should lead to a reduction of his or her damages. Although the infrastructure of South African public roads is presently not ready for self-driving vehicles, the situation may change.

Key words: black box; contributory negligence; defect; driver; Germany; insurance; manufacturer; owner; registration; strict liability; technical ability; third party; United Kingdom; vis maior

Trefwoorde: bestuurder; bydraende nalatigheid; defek; derde party; Duitsland; eienaar; registrasie; ritopnemer (black box); skuldlose aanspreeklikheid; tegniese geskiktheid; versekering; vervaardiger; Verenigde Koninkryk; vis maior

 

1. Inleiding

Feitlik alle moderne voertuie word deesdae toegerus met die een of ander vorm van outomatisme. Dink maar aan spoedkontrole, waarskuwingsisteme om ’n voldoende afstand tussen ’n voertuig en ander voorwerpe te handhaaf, ens. (Marynowski 2019:26). Hierdie aantekening fokus egter net op voertuie wat hulself kan bestuur, of onder toesig van ’n persoon wat kan oorneem ingeval dit nodig sou wees (’n hoogs of halfgeoutomatiseerde voertuig), of wat ten volle geoutomatiseerd is sonder die toesig of noodsaaklikheid van ’n bestuurder (’n ten volle geoutomatiseerde of outonome voertuig) (Magnus 2019:13). Indien selfbesturende voertuie in hierdie sin, veral dié wat nie deur bestuurders vergesel word nie, op ons openbare paaie losgelaat word, spreek dit vanself dat regsreëls daargestel moet word nie alleen ten aansien van die voorwaardes waaronder die voertuie op die paaie gebruik mag word nie, maar veral ook wat betref deliktuele aanspreeklikheid indien sodanige voertuie skade veroorsaak.

Dat hierdie voertuie wel skade kan veroorsaak, blyk uit die volgende twee voorbeelde, albei gevalle waar daar wel ’n bestuurder aanwesig was (Oliphant 2019:191–2; sien ook Magnus 2019:14). In 2016 is die toetsbestuurder van ’n Tesla in ’n ongeluk gedood terwyl die voertuig in outomatiese stuur was. Die outostuursensors van die voertuig was nie ontwerp om ’n vragmotor wat die hoofweg vorentoe oorgesteek het, te identifiseer nie en het volspoed daarteen vasgejaag sonder om die remme in werking te stel. Daar is bevind dat een van die oorsake van die botsing die Tesla-bestuurder se onagsaamheid weens sy oormatige vertroue op die outobestuur was. Dit het aanleiding daartoe gegee dat hy nie op die vragmotor se teenwoordigheid gereageer het nie. Die Tesla se operasionele ontwerp het tot die bestuurder se oormatige vertroue bygedra omdat dit sy langdurige onbetrokkenheid by sy eie bestuurtaak veroorloof het. (Reuters 2021:14 berig ook dat die bestuurder van ’n Tesla onlangs, 5 Mei vanjaar, dood is toe dit teen ’n omgeslane vragmotor gebots het. Dit is nie bekend of die selfbestuurstelsel aangeskakel was nie.) In 2018 het ’n selfbesturende Uber-voertuig ’n vrou op ’n openbare pad doodgery – die eerste noodlottige ongeluk tussen ’n outonome voertuig en ’n voetganger. Die voertuig het wel ses sekondes voor die botsing van die slagoffer se teenwoordigheid bewus geword, maar die noodremstelsel was nie in werking gestel nie, skynbaar om wisselvallige optrede van die voertuig te verhinder. Uber het te kenne gegee dat dit op bestuurders staatgemaak het om op te tree, alhoewel die stelsel nie ontwerp was om hulle te waarsku nie. In hierdie geval het die bestuurder eers na die botsing die rem getrap.

Wat bedoelde regsreëls ten aansien van outonome voertuie betref, kan Suid-Afrika veel waarde put uit die wetgewing wat reeds in byvoorbeeld Brittanje en Duitsland geld, te wete The Automated and Electric Vehicles Act, 2018 (UK) 2018, c 18 (sien Oliphant 2019:193–6; Marynowski 2019:25 e.v.; Channon 2019:1 e.v.) en die Strassenverkehrsgesetz (StVG), 2017 (sien Magnus 2019:13 e.v.; Jacobs 2020:7–16). Hierdie wetgewing geniet vervolgens die aandag. (Vir ’n omvattende bespreking van die posisie in die VSA, sien Jacobs 2020:16–28.)

 

2. Wetlike voorskrifte in Brittanje en Duitsland

2.1 The Automated and Electric Vehicles Act, 2018

Artikel I van die wet maak voorsiening vir die daarstelling en publikasie van ’n lys van voertuie wat ontwerp is om, ten minste in sekere omstandighede, hulself veilig te kan bestuur en wettig gebruik mag word op openbare paaie en plekke. Aanspreeklikheid vir ongelukke wat deur outonome voertuie veroorsaak word, word gereël deur artikel 2 van die wet. Artikel 2(1) en (2) lui soos volg:

(1) Where (a) an accident is caused by an automated vehicle when driving itself on a road or other public place in Great Britain, (b) the vehicle is insured at the time of the accident, and (c) an insured person or any other person suffers damage as a result of the accident, the insurer is liable for that damage.

(2) Where (a) an accident is caused by an automated vehicle when driving itself on a road or other public place in Great Britain, (b) the vehicle is not insured at the time of the accident, … (d) a person suffers damage as a result of the accident, the owner of the vehicle is liable for that damage.

Die artikel is slegs van toepassing op voertuie wat hulself bestuur wanneer die ongeluk plaasvind en dus nie deur ’n individu beheer kan word, of daar nie ’n nodigheid vir sodanige beheer is nie (art. 8(1)(a); Marynowski 2019:30; sien veral ook Marynowski 2019:26–7 oor die verskillende vlakke van outomatisering van voertuie waarvan net vlakke 3–5 vir doeleindes van die wet belangrik is). Die versekeraar of eienaar is strik aanspreeklik vir dood, persoonlike beserings en skade aan eiendom (met enkele uitsonderings (art. 2(3); sien Oliphant 2019:195), en die skadevergoedingsbedrag is onderworpe aan wetteregtelike beperking (art. 2(4)). Strikte aanspreeklikheid blyk onder andere daaruit dat skuld aan die kant van die eienaar of ’n gebrek in die voertuig irrelevant is (Oliphant 2019:194). Die oplegging van aanspreeklikheid op die versekeraar en die eienaar sluit nie enige ander persoon se aanspreeklikheid met betrekking tot die ongeluk uit nie (art. 2(7)). Volgens Oliphant (2019:194) sal dit byvoorbeeld insluit ’n persoon wat die ongeluk nalatig veroorsaak het of die vervaardiger van die voertuig wat weens ’n defek die ongeluk teweeggebring het (wat in die geval van sagteware baie moeilik bewysbaar is; vgl. Shannon 2019, parr. 38–44), in welke geval strikte aanspreeklikheid ook geld (sien die Consumer Protection Act 1987; Oliphant 2019:193; Oliphant en Wilcox 2016:173 e.v.). Hierdie derde partye kan direk deur die slagoffer aangespreek word, of deur die versekeraar of eienaar vir skadeloosstelling van die skadevergoeding wat hulle aan die slagoffer uitbetaal het (art. 5(1)). Die versekeraar of eienaar is voorts verplig om enige oorskotbedrag wat hulle van die derde party verhaal het, aan die slagoffer oor te betaal (art. 5(3)).

Die wet (art. 3 (1)) maak ook voorsiening vir bydraende nalatigheid aan die kant van die slagoffer, maar slegs ten aansien van ’n eis teen ’n derde party. Indien die ongeluk deels deur die slagoffer veroorsaak is, is dié persoon se vordering vir skadevergoeding teen enige derde party (uitgesluit dus die versekeraar of eienaar) onderworpe aan die toepaslike vermindering soos bepaal deur die wetteregtelike reëling in verband met bydraende nalatigheid (sien Oliphant 2019:195). Die aanspreeklikheid van die versekeraar of eienaar word uitgesluit teenoor die persoon in beheer van die voertuig waar die ongeluk wat dit veroorsaak het, net aan die nalatigheid van dié persoon toegeskryf kan word omdat hy toegelaat het dat die voertuig sigself bestuur terwyl dit nie die geskikte of juiste optrede was nie (art. 3(2)). Die versekeringspolis van ’n outonome voertuig kan aanspreeklikheid van die versekeraar uitsluit of beperk ten aansien van skade wat die versekerde persoon gely het en die direkte gevolg is van sagtewareveranderinge wat deur die versekerde self of met sy kennis aangebring is en deur die polis verbied word; of waar die versekerde versuim het om veiligheidsonontbeerlike sagtewarehersienings te installeer terwyl hy geweet het, of redelikerwys behoort te geweet het, dat dit onontbeerlik vir veiligheid is (art. 4(1) en (2)).

Oliphant (2019:196) kom tot die volgende slotsom oor die 2018-wet:

The 2018 Act thus creates a regime of strict liability for damage caused by self-driving AVs. To that extent it shifts the loss from the victim and places it on the insurer or (in the absence of insurance) the owner. The liable party has the ability to seek recourse from at-fault persons or an on-defect producer, which preserves the deterrent effect of tort law – such as it is.

2.2 Die Strassenverkehrsgesetz, 2017

Die fokus van die wetgewing (§1a (1), (2) STGV) is op ten volle en hoogs geoutomatiseerde voertuie (sien Magnus 2019:17–8). Die gebruik van sodanige voertuig is toelaatbaar indien dit volgens die geoutomatiseerde funksies hanteer word. Dit sal die geval wees indien die voertuig ná aktivering oor die tegniese toerusting beskik om:

  • die bestuurstaak te behartig, inbegrepe lengte- en sywaartse kontrole
  • te voldoen aan verkeersregulasies aan die bestuurder gerig
  • te eniger tyd met die hand deur die bestuurder geneutraliseer of gedeaktiveer te kan word
  • die noodsaaklikheid te kan herken wanneer die bestuurder self kontrole moet oorneem
  • visueel, akoesties, tasbaar, of andersins vir die bestuurder die noodsaaklikheid om kontrole van voertuig oor te neem, merkbaar te maak met voldoende tyd voordat kontrole aan die bestuurder oorgegee word
  • aan te dui indien die voertuig strydig met die sisteembeskrywing gebruik word.

Die vervaardiger van die betrokke voertuig moet verklaar dat die sisteembeskrywing aan die voorgaande vereistes voldoen. Belangrik is dat slegs voertuie wat ingevolge hierdie vereistes geregistreer is (§1a (3) STGV), op openbare paaie toegelaat word. Volgens Magnus (2019:15) moet alle outonome voertuie deur ’n bestuurder vergesel word. Die gebruik van volkome bestuurderlose voertuie word dus nie toegelaat nie, al maak §1a (4) STGV voorsiening daarvoor dat die bestuurder ook die persoon kan wees wat die voertuig aktiveer al oefen hy nie self kontrole daaroor uit nie.

§1b STGV beskryf ook die regte en verpligtinge van die bestuurder van ’n outonome voertuig. Wanneer die voertuig op outomaties geaktiveer is, mag die bestuurder hom ingevolge §1b (1) STGV onttrek van die kontrole oor die voertuig op so ’n wyse dat hy deurgaans opmerksaam bly sodat hy sy verpligting ingevolge §1b (2) STGV te eniger tyd kan nakom. Dit is naamlik dat hy verplig is om sonder versuim die kontrole van die voertuig oor te neem indien die outomatiese sisteem hom aanspoor om dit te doen; of wanneer hy ontdek of behoort te ontdek dat die outomatiese sisteem nie (behoorlik) funksioneer nie. Hieruit blyk volgens Magnus (2019:19) dat outonome voertuie oor ’n waaksame bestuurder moet beskik selfs al sit hy nie agter die stuurwiel nie maar op die agterste sitplek sodat hy beheer kan oorneem wanneer dit van hom verwag word.

Wat aanspreeklikheid betref indien die voertuig skade veroorsaak, word onderskei tussen die houer of besitter en die eienaar daarvan. Die houer is die persoon wat normaalweg die voertuig in sy eie belang en vir sy eie voordeel gebruik en kan bepaal wanneer en wie dit mag gebruik. Die houer is gewoonlik ook die eienaar, maar eiendomsreg is nie ’n vereiste vir houerskap nie. Die bestuurder is die persoon wat die voertuig bestuur wanneer die ongeluk plaasvind en daar is ’n weerlegbare vermoede van skuld aan sy kant (§§ 7,18 (1) STGV). Hierteenoor is die houer se aanspreeklikheid skuldloos of strik (§ 7 (2) STGV; sien Magnus 2019:20). Dit geld ook waar twee voertuie bots –albei houers is strik aanspreeklik ((§ 7 (1) STGV). ’n Houer sal slegs in die geval van oormag (force majeure of höhere Gewalt) aanspreeklikheid vryspring.

Magnus (2019:20) verduidelik:

Force Majeure means an external cause which was unforeseeable and unavoidable, for instance a sudden lightning, an unforeseeable avalanche in a region where this cannot be expected or an intentional criminal act of a third party. But even a heavy storm which blows a parked trailer against another parked car was not regarded as Force Majeure, in particular because the media had warned a day before. It is further necessary that the accident/damage could not have been avoided by utmost care of an extremely experienced and careful driver. Internal reasons such as the unforeseeable malfunction of an automated system do never constitute Force Majeure. The courts generally allow the excuse of Force Majeure very rarely. Only if the situation is highly exceptional indeed, the Force Majeure defence will be successful.

Die skuldlose aanspreeklikheid van die houer verhinder nie dat die slagoffer se skadevergoeding weens sy bydraende nalatigheid verminder kan word nie. Die sogenaamde bedryfsgevaar (Betriebsgefahr) is ’n belangrike faktor by die bepaling van bydraende nalatigheid as die slagoffer se voertuig betrokke was en selfs al het die slagoffer nie nalatig opgetree nie. Bedryfsgevaar beteken die gevaar wat die blote werking van die outonome voertuig skep. Daar is aan die hand gedoen dat die risiko wat hierdie voertuie inhou, ’n groter bedryfsgevaar as gewone tradisionele voertuie skep en dat dit ’n rol moet speel by die bepaling van bydraende nalatigheid (vgl. nietemin Magnus 2019:21).

Skadevergoeding kan verhaal word vir dood, liggaamlike besering en saakbeskadiging. Maksimum bedrae geld vir voertuigongelukke wat in die geval van outonome voertuie verdubbel is omdat die risiko van skade baie groter as in die geval van tradisionele voertuie kan wees indien eersgenoemde buite beheer raak en nie maklik tot stilstand gebring kan word nie (sien Magnus 2019:21–2).

Indien ’n outonome voertuig ’n ongeluk weens ’n defek veroorsaak, kan die slagoffer óf die houer óf die vervaardiger van die voertuig (ingevolge die Producthaftungsgesetz – Produkaanspreeklikheidswet; sien Magnus 2016:244) strik aanspreeklik stel. Volgens Magnus (2019:22) sal slagoffers waarskynlik eerder die houer aanspreek, aangesien die vervaardiger as verwere kan opper dat die defek nie by bemarking van die voertuig aanwesig was nie, of dat die defek ’n ontwikkelingsrisiko is wat nie ontdek kon word toe die voertuig in sirkulasie geplaas is nie (Magnus 2016:263–4).

Die houer van alle voertuie (dus ook outonome voertuie) is verplig om versekering vir die voertuig uit te neem vir enige skade wat die voertuig veroorsaak. Sonder bewys van versekering sal ’n voertuig nie op openbare paaie toegelaat word nie.

Magnus (2019:23) vat die regsposisie in Duitsland met betrekking tot outonome voertuie soos volg saam:

The German reform is a first cautious step in respect of the new technology of automated cars. Such cars can now be admitted for driving in public traffic. The reform treats highly and fully automated vehicles alike and requires always a driver who bears the last responsibility for the safe driving of the vehicle ... The car holder is strictly liable for the correct functioning of his or her car. In addition, any damage through such cars is insured. The interests of traffic victims are sufficiently secured. Taken together, the recent German reform reaches a reasonable balance between allowing the new technology for cars … and the safety of traffic participants. When the new technology improves and safe driverless cars become available, also further regulation becomes necessary in order to exploit the advantages of the new technology.

 

3. Regsvergelykende resultate: aanbevelings vir Suid-Afrika

In die lig daarvan dat ons geen wetgewing het wat die gebruik van outonome voertuie op ons openbare paaie reguleer nie, en nieteenstaande die feit dat dié voertuie tans nog nie op die paaie opereer en dus ’n gevaar inhou nie, kan aanvaar word dat die posisie in die toekoms in die lig van tegnologiese ontwikkeling en vooruitgang dramaties kan verander en dat ons daarom voorbereid moet wees om wetgewende maatreëls te implementeer. In ag genome die regsvergelykende resultate hier bo, kan die volgende maatreëls vir Suid-Afrika oorweeg word.

In eerste instansie moet outonome voertuie, net soos ander voertuie wat die openbare paaie benut, onder toesig van owerhede aan ’n proses van registrasie en lisensiëring ingevolge die Nasionale Padverkeerswet 93 van 1996 onderwerp word. Vir huidige doeleindes is dit veral belangrik dat die voertuig oor ’n padwaardigheidsertifikaat moet beskik, en hier kan veel waarde uit veral die Duitsregtelike voorskrifte (sien hier bo par. 2.2; vgl. Jacobs 2020:15) oor selfbesturende voertuie geput word.

Sodanige voertuig moet naamlik oor die tegniese toerusting (outomatiese stelsel) beskik om die bestuurstaak te behartig, inbegrepe lengte en sywaartse kontrole; om deur die bestuurder te eniger tyd gedeaktiveer te kan word; om die noodsaaklikheid te herken wanneer die bestuurder self kontrole moet oorneem en die bestuurder sintuiglik bewus te maak van die noodsituasie met voldoende tyd voordat kontrole aan die bestuurder oorgegee word; en om aan te dui indien die voertuig strydig met die outomatiese sisteem gebruik word.

Belangrik is ook dat die vervaardiger van die betrokke voertuig moet verklaar dat die outomatiese stelsel aan die voorgaande vereistes voldoen. Slegs voertuie wat ingevolge hierdie vereistes geregistreer is, moet op openbare paaie toegelaat word. Hierbenewens moet vereis word dat wanneer die voertuig opereer, daar altyd ’n bestuurder (en nie net passasiers nie) in die voertuig aanwesig moet wees (sien ook Jacobs 2020:12).

Anders as in Engeland, waar die versekering vir outonome voertuie klaarblyklik opsioneel is, behoort, soos in Duitsland, die eienaar van so ’n voertuig verplig te word om versekering vir die voertuig uit te neem vir enige skade wat dit mag veroorsaak. Sonder bewys van versekering moet die voertuig nie op openbare paaie toegelaat word nie. Die risiko van skadeveroorsaking behoort in beginsel dus nie aan die eienaar, wat dalk ’n strooiman is, oorgelaat te word nie. Waar die voertuig desnieteenstaande sonder versekering tog op ’n openbare pad ’n ongeluk veroorsaak, moet die eienaar soos in die Engelse reg die risiko dra.

Die versekeraar, of die eienaar waar toepaslik, van die voertuig moet soos in vermelde regstelsels strik of skuldloos aanspreeklik gestel word vir die skade wat die voertuig veroorsaak. Die verhoogde risiko of gevaar van benadeling wat outonome voertuie meebring, soos onder andere blyk uit die voorbeelde waarna hier bo (par. 1) verwys is, verskaf voldoende regverdiging vir skuldlose aanspreeklikheid in ons reg. Die gevaarteorie bied trouens ’n bevredigende verklaring vir die meeste gevalle van skuldlose aanspreeklikheid wat in ons reg bestaan (Neethling en Potgieter 2020:434; sien ook Neethling 2002:590 vn. 100; vgl. Loubser en Midgley 2017:26; vgl. nietemin Van der Walt en Midgley 2016:46). Hierbenewens word die nuttigheidsfunksie en praktiese waarde van risiko-aanspreeklikheid in gepaste gevalle deur die Hoogste Hof van Appèl onderstreep (sien Loriza Brahman v Dippenaar 2002 2 SA 477 (HHA) 485).

Soos in die Duitse reg, word vis maior of oormag algemeen as ’n verweer teen strikte aanspreeklikheid erken (Neethling en Potgieter 2020:435; sien hier bo par. 2.2 vir voorbeelde.). Oormag beteken ’n onverwagte, onvoorsienbare en onvermybare gebeurtenis waaroor die mens geen beheer het nie en wat skade veroorsaak (vgl. WAT by “oormag: regswetenskap”). Volgens Black v Kokstad Town Council 1986 4 SA 500 (N) 505–3 moet dié verweer egter uitdruklik deur die wetgewer erken word voordat dit toegepas mag word. Daarom word aan die hand gedoen dat toekomstige wetgewing oor outonome voertuie oormag wel as ’n verweer meld.

Die oplegging van strikte aanspreeklikheid op die versekeraar of die eienaar sluit nie enige ander persoon se aanspreeklikheid met betrekking tot die ongeluk uit nie. Soos uit veral die Engelse reg blyk, behoort die versekeraar of die eienaar skadeloosstelling van derde partye wat die ongeluk veroorsaak het, te kan eis. Daar is geen rede waarom hierdie persone skotvry daarvan moet afkom nie. Ten einde te bepaal wat die oorsaak van die ongeluk was, behoort alle outonome voertuie, soos in Duitsland, van ’n ritopnemer (soos die vlugopnemer in vliegtuie) voorsien te word (sien hieroor Jacobs (2020:9–10).

Jacobs (2020:10) verduidelik:

The black box of autonomous vehicles is an event data recorder, and it records the speed, airbag deployment, brake application and seatbelt use from sensors in and around the vehicle. The event data recorder technology records data five seconds before and one second after a crash. The black box used in autonomous vehicles uses data simultaneously from 16 different sensors – this includes information about the driver’s profile, tire pressure, radar data and camera images. The black box is also used to read, record and store data such as the vehicle surroundings, people, road marks and traffic lights. The black box consists of a flash file system that is integrated with the event data recorder – this is to ensure that data are recorded even if there is no power during a crash or collision. It is important that the recorded data are kept safe. … As mentioned above, it is required that the black box be installed to determine liability in a crash. The black box records whether the vehicle was in charge through the self-driving system or whether the human driver was in charge of the vehicle during every moment the vehicle drove. This is important in order for courts to determine blame in autonomous vehicle accidents.

Die volgende gevalle waar ander persone as die eienaar of versekeraar aanspreeklik gehou kan word, verdien vermelding. Eerstens waar die bestuurder van die voertuig in beheer was toe die ongeluk plaasgevind het en dit net aan die nalatigheid van dié persoon toegeskryf kan word omdat hy of sy toegelaat het dat die voertuig sigself bestuur terwyl dit nie die geskikte of juiste optrede was nie; tweedens waar enige ander persoon (buitestander) deur sy of haar nalatige (of opsetlike) optrede die ongeluk veroorsaak het; en derdens waar die vervaardiger van die voertuig as gevolg van ’n defek die ongeluk teweeg gebring het. In laasgenoemde verband geld artikel 61 van die Consumer Protection Act 68 van 2008, ingevolge waarvan die vervaardiger van goedere, ongeag enige nalatigheid aan sy kant, aanspreeklik gestel word vir nadeel wat deur onveilige of defekte goedere veroorsaak word. Strikte aanspreeklikheid is dus ook hier van toepassing (sien hieroor Neethling en Potgieter 2020:456–8; Loubser en Midgley 2017:565 e.v.). Aangesien die wet op verbruikersbeskerming gerig is, is artikel 61 waarskynlik nie tot die beskikking van die onskuldige omstander wat as gevolg van ’n defekte outonome voertuig benadeel word nie (vgl. Eskom Holdings Ltd v Halstead-Cleak 2017 1 SA 333 (HHA) parr. 21–5; sien egter Loubser en Midgley 2016:472–3; Van Heerden en Barnard 2019:444 e.v. wat die uitbreiding van die beskerming van artikel 61 na sodanige persone ondersteun). Onskuldige omstanders sal dus op die strikte aanspreeklikheid van die versekeraar of eienaar aangewese wees, wat, soos aangedui, in elk geval verkieslik in sowel die Engelse as Duitse reg is omdat die slagoffer ’n moeiliker bewyslas het om die vervaardiger weens ’n defek (veral by sagteware) aanspreeklik te stel.

Bydraende nalatigheid van die slagoffer kan in beide regstelsels in sekere omstandighede as ’n verweer geopper word om die skadevergoedingseis te verminder. Tans maak die Suid-Afrikaanse reg nie voorsiening vir hierdie verweer by skuldlose aanspreeklikheid nie (sien hieroor Neethling en Potgieter 2020:199 e.v.; Loubser en Midgley 2017:529 e.v.; Van der Walt en Midgley 2016:332 e.v.). Artikel 1(1)(a) van die Wet op Verdeling van Skadevergoeding 34 van 1956 lui soos volg:

Waar iemand skade ly wat deels aan sy eie skuld en deels aan die skuld van ’n ander persoon te wyte is, word ’n vordering ten opsigte van bedoelde skade nie ten gevolge van die skuld van die eiser verydel nie, maar word die skadevergoeding wat ten opsigte daarvan verhaalbaar is in so ’n mate deur die hof verminder as wat die hof met inagneming van die mate van die eiser se skuld met betrekking tot die skade regverdig en billik ag.

Dit beteken dat – gesien in die lig daarvan dat artikel 1(1)(a) net geld ten aansien van skade wat deels aan die eiser en deels aan die verweerder se skuld te wyte is – die wet nie van toepassing kan wees waar aanspreeklikheid nie op die nalatigheid van die verweerder berus nie. Die wet geld dus nie by skuldlose aanspreeklikheid nie (Van der Walt en Midgley 2017:333; Neethling en Potgieter 2020:201). Daar word aan die hand gedoen dat hierdie verweer wel ten aansien van outonome voertuie behoort te geld.

 

4. Slot

Wetgewing behoort aangeneem te word wat vir die toekomstige gebruik van outonome voertuie op ons paaie voorsiening maak. Soos Jacobs (2020:43) egter tereg uitwys, is dit vooraf gebiedend noodsaaklik dat ons land eers oor die nodige infrastruktuur moet beskik voordat selfbesturende voertuie veilig op ons paaie losgelaat kan word. Hy verklaar:

Seeing as autonomous vehicles would be expensive and that the most of South Africa would not be able to afford or maintain an autonomous vehicle, it is advised that the infrastructure of big cities in the country, such as Cape Town and Johannesburg, improve their infrastructure to meet the required standard to enable these vehicles to drive on public roads until the infrastructure in the rest of South Africa can match that of these cities.

 

Bibliografie

Channon, M. 2019. Automated and Electric Vehicles Act of 2018: An evaluation in light of proactive law and regulatory disconnect. European Journal of Law and Technology, 10(2):1–36.

Jacobs, M.Y. 2020. Regulations regarding autonomous vehicles and their use in South Africa. LLM-verhandeling, Noordwes-Universiteit. https://repository.nwu.ac.za/bitstream/handle/10394/36776/Jacobs_MY.pdf?sequence=1.

Loubser, M. en R. Midgley. 2017. The law of delict in South Africa. 3de uitgawe. Kaapstad: Oxford University Press.

Magnus, U. 2016. Product liability in Germany. In Machnikowski (red.) 2016:237–74.

—. 2019. Autonomously driving cars and the law of Germany. Insurance Review, 4:1–13.

Machnikowski, P. (red.). 2016. European product liability. An analysis of the state of the art in the era of new technologies. Cambridge: Intersentia.

Marynowski, M. 2019. Car insurance in the age of self-driving – analysis of the Automated and Electric Vehicles Act of 2018. Insurance Review, 4:25–36.

Oliphant, K. 2019. Liability for road accidents caused by driverless cars. Singapore Comparative Law Review, 190–7.

Oliphant, K. en V. Wilcox. 2016. Product liability in England and Wales. In Machnikowski (red.) 2016 (173–204).

Neethling, J. 2002. Aanspreeklikheid vir “nuwe” risiko’s: Moontlikhede en beperkinge van die Suid-Afrikaanse deliktereg. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 65(4):574–92.

—. 2016. Product liability in South Africa. In Machnikowski (red.) 2016:549–73.

Neethling, J. en J.M. Potgieter. 2020. Law of delict. 8ste uitgawe. Durban: LexisNexis.

Reuters. 2021. Tesla nog lank nie mensloos. Rapport Sake. 9 Mei, bl. 14.

Van der Walt, J.C. en J.R. Midgley. 2016. Principles of delict. 4de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Van Heerden, C.M. en J. Barnard. 2019. Narrowing the reach of the strict liability provisions in section 61 of the Consumer Protection Act 68 of 2008: Eskom Holdings Ltd v Halstead-Cleak 2017 1 SA 333 (SCA). Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 82(3):444–65.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Aantekening: Deliktuele aanspreeklikheid vir skade veroorsaak deur outonome (selfbesturende) voertuie appeared first on LitNet.

Ou wyn in nuwe sakke: Die onlangse herlewing van die Germaanse kultuur op Instagram

$
0
0

Ou wyn in nuwe sakke: Die onlangse herlewing van die Germaanse kultuur op Instagram

Burgert Senekal, Departement Rekenaarwetenskap en Informatika, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 18(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Daar was oor die afgelope paar dekades ’n oplewing in belangstelling in die leefwêreld van die Germane – hulle kultuur, gebruike en gelowe. Hierdie belangstelling word deels aangevuur deur gewilde televisiereekse soos Vikings en ’n oplewing in die gebruik van Germaanse en/of Noorse mitologie in musiek, veral in black metal en volksmusiek. Die huidige studie ondersoek hierdie verskynsel op die sosialemediaplatform Instagram deur bykans 40 000 plasings met die hutsmerk #germanic te ontleed. Die hutsmerke wat saam met hierdie plasings gebruik is, word ook onttrek en die algemeenste hutsmerke word gekategoriseer teen die agtergrond van die literatuur oor die Germane. Daar word onder andere aangetoon met watter plekke, natuurverskynsels, gode, diere en tydperke die Germane op Instagram verbind word, terwyl die rol wat populêre musiek in hierdie diskoers speel, ook ondersoek word.

Trefwoorde: black metal; erfenis; Europa; Germane; Germaanse gelowe; Germaanse kultuur; Germaanse mitologie; Heilung; hutsmerke; Instagram; migrasietydperk; Noorse mitologie; sosiale media; Vikings; volksmusiek; Wardruna

 

Abstract

Old wine in new bottles: The recent revival of Germanic culture on Instagram

Over the past few decades scholars researching the Germanic tribes have noted a surge in interest in the world of the Germanic tribes – their culture, customs and beliefs. This interest is fuelled partly by popular television series such as Vikings and Barbarians and a surge in the use of Germanic and/or Norse mythology in music, especially in black metal and in folk music. At the same time, over the past decade and a half, social media platforms have evolved into conversation platforms where people can share their interests and thoughts and also find other people who share their interests. One of the most popular social media platforms is Instagram, which is the platform explored in the current study.

The aim of the present study is to determine the extent to which an interest in the Germanic world manifests itself on the social media platform Instagram, whether an increase in interest can be found, and what concepts are associated with the Germanic world. To this end, all posts with the hashtag #germanic are analysed, from the first post in 2012 to the end of 2020, with a total of 39 219 posts. The 68 3571 hashtags used in conjunction with these posts, of which 56 343 are unique hashtags, are also extracted and the most common hashtags are categorised against the background of the literature on the Germanic tribes.

Hashtags are classified into nine categories: language and culture, place names, periods, heritage, warrior culture, texts, religion and culture, nature and popular culture. It is shown, among other things, that there is a clear connection between the Germanic language and culture and that of Scandinavia on Instagram, that Instagram users associate the Germanic tribes with Northern Europe in particular, that the Germanic tribes are mentioned especially in the context of the Dark Ages, that texts such as Beowulf, the Eddas and the Nibelungenlied play an important role in this discourse, and that Odin is the god most often mentioned, followed by Thor and Frey. Furthermore, Mjolnir is the symbol most often mentioned, followed by the vegvísir; animals most commonly associated with the Germanic tribes are the wolf and the raven; and forests and winter are the nature scenes most often mentioned. In terms of popular culture, the groups Wardruna and Faun are mentioned the most, followed by Heilung, but the connection with black metal is also shown. However, film does not play an important role in this discourse, while the role of television series such as Vikings and Barbarians is difficult to determine with certainty, as these series’ titles are terms that can also be used more commonly.

Furthermore, it is shown that posts with the hashtag #germanic have increased almost every year since 2012, especially since 2018. This increase in posts indicates a significant increase in interest in the Germanic tribes’ world. By identifying the language of captions, we also show that although the discourse takes place mainly in English and German, Portuguese and Icelandic are also used in a large number of posts.

Keywords: black metal; Europe; folk music; Germanic tribes; Germanic religions; Germanic culture; Germanic mythology; hashtags; Heilung; heritage; Instagram; migration period; Norwegian mythology; social media; Vikings; Wardruna

 

1. Inleiding

Simek (2004:73) voer aan dat daar sedert die 1970’s ’n oplewing in akademiese belangstelling in Germaanse mitologie is. Hy skryf dié oplewing toe aan hernude belangstelling in nie-Christelike mitologieë oor die algemeen, die hernude opkoms van nie-Christelike gelowe en die feit dat begrip van die dominante geloof in Noordwes-Europa in die eerste millennium na Christus – naamlik dié van die Germane – steeds gefragmenteer is. Von Schnurbein (2016:54) sluit by Simek aan deur te skryf dat belangstelling in die Germaanse geloof, algemeen bekend as Ásatrú, sedert die 1970’s ’n oplewing ondervind het. Ook Kieser (2019:1) merk op dat daar ’n globale oplewing in belangstelling in die Germaanse gelowe en kulture is wat deels deur populêre kultuur aangevuur word. Hy noem films soos The 13th warrior (1999) en How to train your dragon (2010), asook televisiereekse soos Vikings (2013–2021) en The last kingdom (2015–2020), en musiekgroepe soos Wardruna en Tyr. In Afrikaans ondersoek Marais (2014) hoe Noorse mitologie neerslag vind in die Afrikaanse literatuur en voer aan (2014:112) dat verwysings na Noorse mitologie ná 1994 ’n bloeityd in die Afrikaanse literatuur ondervind het.

Aanlyngemeenskappe het ’n belangrike ruimte geword waar mense hul idees kan deel, inligting kan vind en ’n gevoel van samehorigheid ontwikkel. Boonop skep sulke aanlyngemeenskappe die geleentheid om mense met soortgelyke belangstellings te vind, ongeag waar mense hul bevind. Ten opsigte van die Germaanse kulture is daar byvoorbeeld aanlyngemeenskappe soos Norskk (https://norskk.com), wat poog om ’n internasionale gemeenskap wat belangstelling in die waardes van die Germane deel, met mekaar te verbind.

Sosiale media is by uitstek geskik vir die skep en instandhouding van sodanige gemeenskappe. Mense kan ander persone wat hul belangstellings deel, aanlyn vind, of andersins kan gemeenskappe wat reeds bestaan, mekaar aanlyn vind. Ná afloop van ’n studie oor runes en tatoeëermerke op Instagram spekuleer Bennett en Wilkins (2020:1312) byvoorbeeld: “This social media platform is, perhaps, the modern-day equivalent of the mead hall: a place in which many individuals can gather to share (and reinforce) their beliefs, to compare stories, to strut and boast.” Benewens Bennett en Wilkins se studie word aanlyngemeenskappe op Instagram met ’n verbintenis met die Germaanse gelowe en -kultuur onder andere deur Downing (2020) en Hanssen (2020) bestudeer.

Anders as Bennett en Wilkins, Downing en Hanssen se kwalitatiewe studies, vind die huidige ondersoek vanuit ’n kwantitatiewe perspektief plaas. Die oogmerk is om te bepaal tot watter mate ’n belangstelling in die Germane se leefwêreld op Instagram manifesteer, of belangstelling toeneem, en watter begrippe met die Germaanse leefwêreld verbind word. Hiervoor word alle plasings wat op Instagram met die hutsmerk #germanic gemaak is, van die eerste plasing in 2012 tot einde 2020, in berekening gebring.

Die artikel is soos volg gestruktureer. Eers word agtergrond oor die Germane, met spesifieke verwysing na hul gelowe en die onlangse oplewing in belangstelling hierin, verskaf. Hierna word ’n paar onlangse uitbeeldings van die Germaanse kulture in populêre kultuur bespreek. Die daarpvolgende onderafdelings verskaf ’n kort oorsig oor vorige navorsing oor Instagram en die Germane se kultuur, en etiese kwessies rondom die gebruik van sosialemediadata word kortliks bespreek. Hierop volg ’n uiteensetting van die metodes wat in die ondersoek gevolg is, waarna die resultate aangebied en bespreek word. Die artikel sluit af met slotopmerkings en voorstelle vir verdere navorsing.

 

2. Agtergrond

Barnes (2008:274) skryf dat die Germaanse stamme tussen 1000 en 500 v.C. suidwaarts vanaf Skandinawië migreer het en dat hulle op daardie stadium dieselfde taal gepraat het, alhoewel dialekte voorgekom het. Voor die Ystertydperk, wat in 400 v.C. in Skandinawië begin, is daar egter min sekerheid oor Germaanse tale, gelowe en gebruike (Simek 2004:75). Daar is ook onsekerheid oor wanneer Germaanse stamme suidwaarts gemigreer het, en tot watter mate. Hedeager (2008:12) skryf egter dat die belangrikste kwessie in die ontstaan van die Germaanse stamme nie is wanneer hulle suidwaarts gemigreer het nie, maar dat hul identiteit met Skandinawië en die Skandinawiese gode vervleg was.

’n Deel van hierdie gedeelde identiteit van die Germane en Skandinawiërs kan gesien word in die latere optekening in Skandinawië van verhale van ander Germaanse volke wat uit die tydperk van die Völkerwanderung dateer. Jesch (2008:294) noem byvoorbeeld die Röksteen in Östergötland in Swede uit ongeveer 800 n.C. en verwys na Theodoric van die Oos-Gote in die 5de/6de eeu, asook verhale oor Attila die Hun (c. 406–453 n.C.), wat in latere gedigte in die Yslandse Poëtiese Edda (Anoniem 1928) opgeneem is. Die Yslandse fornaldarsögur (een van die subgenres van die Yslandse sagas) bevat ook heelwat verhale uit die tydperk van die Völkerwanderung (Lönnroth 2008:306). Met ander woorde, namate die Germaanse stamme wat suidwaarts getrek het, hulself steeds deel gevoel het van die Skandinawiese stamme, het die Skandinawiërs die ervarings van dié wat getrek het, opgeteken as deel van hul eie erfenis. Murdoch en Read (2004:7–15) verskaf ’n oorsig oor die Völkerwanderung van die Germaanse stamme sedert die eerste eeue in die huidige era tot die einde van die Viking-era (11de eeu n.C.).1

Die Germaanse stamme het in die eerste eeue van die huidige era slegs vir ’n spesifieke doel verenig, byvoorbeeld by die Slag van Teutoburg-woud (9 n.C.). Die begrip Germaans is derhalwe ’n taalkundige en kulturele begrip eerder as ’n politieke begrip. Breedweg verwys die term Germane na stamme wat sedert die Ystertydperk in Noordwes-Europa woonagtig was en tot dieselfde taalfamilie behoort, terwyl hulle ook sommige komponente van hul geloof en gebruike gemeen gehad het. Die term Germaan (Germani) self is deur Julius Caesar geskep (Von Schnurbein 2016:18).

Net soos die Germaanse stamme nie polities verenig was nie en ook sedert die eerste millennium n.C. nie dieselfde taal gepraat het nie, was daar ook nie ’n enkele, verenigde Germaanse geloof nie (Simek 2004:74; Gräslund 2008:249; Dijk 2017:13). Simek (2004) wys daarop dat die Germane se gelowe tussen streke en tussen tydperke verskil het, met ’n groot aantal gode waaroor vandag steeds onsekerheid bestaan. Anders as die monoteïstiese gelowe wat die wêreld vandag domineer (die Christen-geloof, Judaïsme en Islam), was die Germane se gelowe meer gevarieer:

Despite a late development toward more widely accepted and commonly venerated deities, the Germanic religion never developed into a codified religion, nor did it ever possess a dogmatic set of rules or even truths to be accepted by every believer; the whole concept of membership in a religion was apparently foreign to it. Rather, religion was seen as a traditional set of customs, beliefs, and perhaps a fund of mythological stories with only limited claim to universality. (Simek 2004:83; kyk ook Hultgård 2008:212, Raudvere 2008:235 en Sørensen 1997:208.)

Dijk (2017:13) en Von Schnurbein (2016:10) skryf dat die afwesigheid van ’n verenigde geloof daarin gesien kan word dat daar nie ’n Oudnoorse woord vir geloof was nie. In plaas van so ’n woord is daar verwys na forn siðr (“die ou gebruik”, sien ook Raudvere 2008:235 en Gräslund 2008:249), ’n term wat vandag nog gebruik word. Price (2008b:244) skryf ook dat die Germane se geloofsopvattinge kompleks was: “‘Religion’ is far too simple a word for it.” Schjødt (2008:221) beklemtoon ook die diversiteit van die Germaanse geloofsopvattinge en skryf dat mites op verskillende maniere vertel is en rituele van plek tot plek verskillend uitgevoer is, maar volgens hom is daar geen twyfel dat sekere gode as mitiese én rituele strukture wyd oor die Germaanse leefwêreld voorgekom het nie.

Een van die sterkste ooreenkomste tussen die Skandinawiese geloofsopvattinge gedurende die Viking-era en dié van ander Germaanse stamme tydens die Völkerwanderung kan gevind word in die voorkoms van die mees prominente gode. Simek (2004:81) skryf dat Odin/Woden/Wotan/Óðinn gedurende die Germaanse Ystertydperk een van die dominante gode oor die hele Noordwes-Europa was, met Tyr/Tiwaz en Thor/Donar wat ook prominent voorkom. Hul belangrikheid word gesien in die dae van die week: Woensdag is na Woden/Wotan/Odin/Óðinn vernoem, Donderdag na Donar/Thor en Vrydag na Frikka/Frigg (Simek 2004:82; Shaw 2007:387).2

Simek (2004:94) en Gimbutas (1999:189–90) skryf dat dit bykans ’n millennium geneem het om die Germaanse stamme te kersten, vanaf die eerste kontak tussen die Gote en die Christendom in die 3de eeu tot die kerstening van Swede in die 12de eeu. Die Visigote is in die 4de eeu gekersten; die Longobaarde en Vandale in die 5de eeu; die Franke in die 6de eeu; die Angel-Saksers in Engeland in die 6de en 7de eeue; die Allemanni en Beiere in die 7de eeu; die Saksers en Friese in die 8ste eeu; die Dene in die 10de eeu; die Noorweërs en Yslanders in die 11de eeu; en die Swede in die 12de eeu. Die kerstening van die Germaanse volke was egter ’n komplekse proses met vroeë kontakte aan die een kant en teruggrype na die Germaanse gelowe aan die ander kant (Simek 2004:95–6).

In Ysland is daar in die 12de en 13de eeue ’n poging aangewend om die Germaanse gelowe op te teken. Simek (2004:98) skryf: “There seems to have been a desire by the Icelandic scholars to create a canon of the old religion in much the same way that there was a canon for the new.” Die belangrikste historikus in hierdie opsig is die Yslander Snorri Sturluson (1179–1241) (Faulkes 2008), wat onder andere die Heimskringla (1991) en die Prose (Uppsala) Edda (2012) saamgestel het (eersgenoemde rondom 1230 en laasgenoemde rondom 1220 n.C., Ross 2008:233; Hannasvik 2020:1).

Met behulp van argeologie, literêre tekste en ’n klein aantal geskiedkundige geskrifte is die Germaanse gelowe sedert die 18de en 19de eeue herskep (Hultgård 2008:213; Granholm 2011:520; Dijk 2017:27). Benewens die Heimskringla en Uppsala Edda is die sleuteltekste vir hierdie gelowe gewoonlik die Poëtiese Edda (Anoniem 1928) en die Middeleeuse Yslandse sagas (Gimbutas 1999:190; Von Schnurbein 2016:20; Kieser 2019:6; Hannasvik 2020:3). (Marais 2014:24 noem die twee Eddas die hoofbronne van Noorse mitologie.) Tacitus se Germania (1999), geskryf rondom 98 n.C., speel ook ’n belangrike rol (Wells 2004:32; Von Schnurbein 2016:18; Kieser 2019:12), asook Saxo Grammaticus se Gesta Danorum (2015a, 2015b) (Von Schnurbein 2016:252). Verdere belangrike tekste is die optekenings van Ibn Fadlan en Adam van Bremen (Gimbutas 1999:190; Gräslund 2008:250, 253; Price 2008a; Klitgaard 2018:9, 86). Grönbech (2010) word ook deur byvoorbeeld Downing (2020:203), Klitgaard (2018:29 e.v.) en Von Schnurbein (2016:101) as ’n belangrike sekondêre teks uitgelig en Von List (1988) in Granholm (2011:522), Gunstad (2015:24), Von Schnurbein (2016:41 e.v.) en Forssling (2020:64 e.v.).

Tydens die 19de eeu het die oplewing in belangstelling in die Germaanse gelowe gepaard gegaan met die Romantiek en die opkoms van Germaanse (waaronder Duitse) nasionalisme, wat uiteindelik ’n rol in Nazi-ideologie gespeel het (Granholm 2011:521; Von Schnurbein 2016:17; Dijk 2017:27; Kieser 2019:12). Hierdie verbintenis met etnosentrisme en rassisme het kort ná die Tweede Wêreldoorlog tot ’n afname in belangstelling in die Germaanse geloofsopvattinge en -kulture gelei, en alhoewel die neo-Germaanse bewegings sedert die 1970’s herstel het, bly assosiasies met rassisme ’n probleem in die neo-Germaanse geloofsbewegings (sien Forssling 2020, Gunstad 2015, Von Schnurbein 2016:123–45 of Marais 2014:210–11 vir ’n bespreking van dié verbintenis). In Bennett en Wilkins (2020:1306) se studie van Instagram-plasings met die hutsmerk #rune het hulle ook van tyd tot tyd die hutsmerk #hitler aangetref (kyk ook Downing 2020:189). Brenton Tarrant, wat verantwoordelik was vir die skietvoorval in 2019 in Christchurch, Nieu-Seeland, het ook simbole soos die sonwiel op sy taktiese baadjie gehad (Brockell 2019). Tydens die opstande in Washington in Januarie 2021 was een van die bekendste foto’s ook dié van Jake Angeli met die valknut-, yggdrasil- en mjolnir-simbole op sy bors getatoeëer (Kelley 2021). Moderne groepe wat behoort tot wat Von Schnurbein (2016) arassisties noem, word verplig om hulself duidelik van die rassistiese groepe te onderskei.

Die geloof in die Germaanse en/of Noorse gode staan vandag algemeen bekend as Ásatrú (ook gespel Ásatru of Asatru) (Granholm 2011:522; Von Schnurbein 2016:10; Kieser 2019:2), wat “geloof in die Æsir” (die dominante familie van Germaanse gode) beteken, maar daar word ook soms na verwys as Odinisme (Granholm 2011:522; Von Schnurbein 2016:10), forn siðr, of meer algemeen, heidens. Ásatrú is in 1973 as ’n amptelike geloof in Ysland erken (Von Schnurbein 2016:78), waarna dit ook as amptelike geloof in Noorweë, Swede en Denemarke erken is (Von Schnurbein 2016:64–8). Von Schnurbein (2016) en Gunstad 2015:26–7) bespreek die ontwikkeling van Ásatrú en die organisasies wat daarby betrokke was. Ten spyte van die groeiende belangstelling skryf Von Schnurbein (2016:88) dat daar teen 2016 na raming minder as 20 000 lede wêreldwyd was.

Oor die vraag waarom mense hulle tot Ásatrú keer, skryf Von Schnurbein (2016:89–91) dat dit vir Ásatrúers veral gaan om ’n gevoel van behoort: Vele aanhangers van Ásatrú vertel verhale van hoe hulle ’n spirituele tuiste gesoek het, hulself nie tuis gevoel het binne die Christendom nie, ’n tydperk van ateïsme beleef het, of verhale teëgekom het wat tot hulle gespreek het.

Aanhangers van en belangstellendes in Ásatrú kom voor die uitdaging te staan oor wat outentiek is en wat literêre uitvindsel of oorgedra vanuit die Christendom is (Dijk 2017:14). Twee van die gedigte wat in die Poëtiese Edda (Anoniem 1928) opgeneem is en die kern van Ásatrú vorm, naamlik “Völuspá” en “Hávamál”, is bekend uit ’n manuskrip uit die 13de eeu – meer as 250 jaar na Ysland se kerstening (Von Schnurbein 2016:252, 255). Hannasvik (2020) dui aan dat Christelike invloede aantoonbaar is in die “Völuspá”, alhoewel die teks sover terug as die 9de eeu dateer (kyk ook Jesch 2008:295). Sturluson se Uppsala Edda toon ook duidelike Christelike elemente (Ross 2008:233; Hannasvik 2020:1). Aan die ander kant leen die sterk struktuur van Oudnoorse skaldiese poësie sigself tot die oordrag van materiaal wat nie maklik verander kan word nie, wat beteken dat alhoewel gedigte eers in die 13de eeu opgeteken is, dit heelwat ouer mag wees. Jesch (2008:296) voer byvoorbeeld aan:

The extent to which the form of skaldic verse is fixed is much greater than in other early Germanic genres, so that, while all verse is designed to be memorable, skaldic verse seems particularly designed to be memorable in exactly the form in which it was originally composed. It is characterised by complex metrical rules applied within a small poetic space: almost any changes to the text may violate one or more of these metrical rules. (Sien ook Lönnroth 1997:226.)

Lönnroth (2008:309) skryf verder dat die Yslandse sagas aan die een kant onbetroubaar is ten opsigte van historiese gebeure, maar terselfdertyd goeie bronne rakende die mentaliteit, idees, sosiale struktuur, plaaslewe en alledaagse gebruike in die Oudnoorse samelewing is.

As oplossing vir die vraag oor die betroubaarheid van bronne stel sommige Ásatrúers voor dat die Germaanse gelowe in die eerste plek nooit dogmaties soos die Christendom was nie (Von Schnurbein 2016:93). Daar was geen samehangende en voorskriftelike teks vir die Germaanse geloof wat vergelykbaar is met die Bybel nie, en deur persoonlike keuses te maak oor wie, wat en hoe om te aanbid, word veronderstel dat die oorspronklike gees van forn siðr voortgesit word. Dijk (2017:36–7) skryf oor die Oudnoorse geloof teenoor moderne Ásatrú:

With regards to core characteristics there are some clear similarities between the religious systems. Namely, both have a non-dogmatic character, which gives the possibility for considerable variety of beliefs and practises (sic) between not only communities but individuals as well, creating a diverse religion. This is likely more so the case for Ásatrú than ONr, as members of the former are actively encouraged to seek their own way to connect to what their religion provides, thus creating an individual spiritual experience within the larger frame of reference that is Ásatrú. To what extent this might have been a possibility for Nordic people in pre-Christian times is hard, if not impossible, to assess, but the few pieces of evidence [...] that point towards an individual approach to worship and belief go some way towards representing a certain sense of individual spirituality, a concept which is heavily emphasised and encouraged within the Icelandic Ásatrú community.

Die Eddas en ander bronne word derhalwe as inspirasie gebruik vir ’n “geloof met huiswerk” (Von Schnurbein 2016:286) (een waar Ásatrúers self moet gaan oplees), maar persoonlike keuses en vryhede staan sentraal. Von Schnurbein (2016:93) verwys na die “almost dogmatic invocation of the notion that the fundamental nature of Ásatrú is its lack of dogmatism”.

Die volgende afdeling bespreek ’n paar voorbeelde waar die Germaanse gelowe, literatuur en erfenis in populêre kultuur neerslag vind.

 

3. Populêre kultuur

Soos later in die huidige artikel aangedui word, kom die hutsmerk #wardruna die 16de meeste saam met #germanic voor en #faunband die 22ste meeste, uit ’n korpus van 39 219 plasings en 56 343 unieke hutsmerke. Beide #wardruna en #faunband verwys na musiekgroepe. Boonop is dit onduidelik of die 11 842 voorkomste van #vikings, die hutsmerk wat die vierde meeste in die hele datastel voorkom, na die TV-reeks verwys. Die prominente voorkoms van hutsmerke wat na populêre musiek en televisiereekse verwys, noop ’n mens om ook populêre kultuur kortliks te bespreek, omdat nie alle lesers noodwendig vertroud sal wees met hierdie verwysings nie. Aangesien TV-reekse en musiek gereeld saam met die hutsmerk #germanic voorkom, is ook ondersoek ingestel na die moontlike voorkoms van filmverwysings.

3.1 Televisiereekse

Vikings (2013–21) is ’n gewilde historiese televisiereeks en sentreer rondom die legendariese figuur Ragnar Lothbrok en sy seuns, soos in die gelyknamige saga (Anoniem 2009) en in Saxo Grammaticus (2015a, 2015b) vertel. Die reeks het ’n historiese uitkyk en beklemtoon veral die konflik tussen die Christendom en die geloofsopvattinge van die Vikings, met verskeie veldslae tussen die Angel-Saksers en Vikings en tussen Franke en Vikings wat in geloofsterme gestel word. Die klem op geloof word ook vergestalt in verskeie karakters – onder wie Ragnar, sy broer Rollo en sy seuns – wat ’n interne stryd tussen die Christendom en hul tradisionele geloofsopvattinge ervaar. Forssling (2020:222) skryf dat die televisiereeks historiese, argeologiese en literêre bronne binne ’n moderne narratief verpak soos die Yslandse sagas ook in die 19de eeu op ’n aantreklike wyse vir hul gehoor verpak is.

The last kingdom (2015–2020) speel in die Viking-era in Engeland af en oorvleuel heelwat met gebeure in Vikings, maar word hoofsaaklik uit die perspektief van die Angel-Saksers vertel. Die reeks is gebaseer op Bernard Cornwell se boekreeks oor koning Alfred (848/9–899 n.C.) en betrek ook konflik tussen geloofsopvattinge soos in die geval van Vikings.

Barbarians (2020) speel af in die aanloop tot die Slag van Teutoburg-woud in 9 n.C., waar Arminius (Hermann) en die Cherusci die Romeine onder Varus verslaan het (die veldslag staan ook bekend as die Varusschlacht of die Kalkriese slagting). (Hierdie veldslag word byvoorbeeld deur Murdoch 2004:55–7, Wells 2004 en Sheldon 2001 beskryf.) Die onlangse verfilming van hierdie gebeurtenis is interessant, omdat dit een van die mees verpolitiseerde veldslae in die geskiedenis van die wêreld is (Murdoch 2004:58). Hierdie veldslag het ’n beduidende rol in die opkoms van Nazi-denke gespeel (Sheldon 2001:36) en is as deel van Nazi-propaganda in die film Ewiger Wald (1936) gebruik (Murdoch 2004:60).

3.2 Films

Heelwat onlangse films beeld die leefwêreld van die Germane en Vikings uit. Ek noem slegs enkeles.

Films soos Beowulf (1999), The 13th warrior (1999), Beowulf and Grendel (2005) en Beowulf (2007) verteenwoordig almal ’n interpretasie van die Oudengelse Beowulf (Anoniem 2001). Pathfinder (2007) en Valhalla rising (2009) handel oor die Viking-ekspedisie na Noord-Amerika, soos vertel in die Vinland-sagas (Anoniem 2008), alhoewel beide heelwat van die sagas afwyk. Thor (2011), Thor: The dark world (2013) en Thor: Ragnarok (2017) is superheldfilms van Marvel wat slegs rofweg op die Noorse mitologie gebaseer is. In The ritual (2017) verdwaal Britse toeriste in ’n Sweedse woud, waar hulle aan een van die Jötunar (die reuse in Noorse mitologie) geoffer word. Ander onlangse films wat genoem kan word, is Pagan warrior (2019), Krampus vs Vikings (2018), Northmen: A Viking saga (2014) en Ragnarok (2013).

3.3 Musiek

Veral twee genres gebruik verwysings na die Germaanse gelowe en mitologie, naamlik black metal en volksmusiek. Skandinawiese ekstreme metal3 (sogenaamde black metal) word reeds sedert die 1980’s geassosieer met die Germaanse gelowe en mitologie. Volgens Kahn-Harris (2007:105) was Bathory die pioniersgroep in hierdie genre – hulle het reeds teen 1988 Noorse mitologie in hul lirieke gebruik. Unger (2016:25) noem op sy beurt Bathory “foundational” tot die black metal-genre (sien ook Granholm 2011:526). Tydens die 1990’s het die verbintenis tussen black metal en Noorse mitologie versterk, soos uitgebeeld in groepe se name, die gebruik van runes in groepe se logo’s, en lirieke wat inspirasie in Noorse mitologie vind (Roe 2019:16). In 1993 het Varg (Kristian) Vikernes van die Noorweegse groep Burzum die Norwegian Heathen Front (Norsk Hedensk Front) gestig (Gunstad 2015:28; Von Schnurbein 2016:63), terwyl hy op daardie stadium in die gevangenis was as gevolg van moord en die afbrand van kerke (Granholm 2011:529; Unger 2016:25). Soos voorheen bespreek is ten opsigte van die Nazi-kaping van die Germaanse geskiedenis en kultuur, word black metal ook soms met rassisme en fascisme verbind (Kahn-Harris 2007:41; Roe 2019:24).

Von Schnurbein (2016:334) skryf oor black metal:

[T]his musical genre, and the subculture surrounding it, combines an apocalyptic aesthetic, a fascination with war and warrior ethics, a misanthropic and misogynistic attitude, and the rejection of modern capitalist society with an interest for an ancient mythic heritage and its revival.

Kahn-Harris (2007:40) skryf op ’n soortgelyke wyse oor hierdie genre:

Scandinavian black metal bands often invoke the Vikings and mourn the arrival of Christianity in the Middle Ages, almost claiming themselves to be colonized people. Pagan society is constructed as lacking the “weakness” that characterizes contemporary society. (Kyk ook Unger 2016:80.)

Metal-groepe – nie noodwendig almal black metal-groepe nie – wat Germaanse mitologie in hul lirieke insluit, is onder andere Bathory, Tyr, Finntroll, Ultima Thule, Helheim, Solefald, Menhir, Therion, Sturmgeist, Amon Amarth, Moonsorrow, Unleashed, Sabaton, Enslaved, Skyclad, Riger, Einherjer, Amorphis en Bifrost.

Verskeie volksmusiekgroepe is onlangs gestig wat Oudnoorse en Oudgermaanse materiaal insluit en verwerk, maar binne ’n meer tradisionele musiekstyl as metal. Voorbeelde van sulke onlangse groepe is Wardruna, Danheim, Skáld, Fire+Ice, Faun, Nytt Land, Svarrogh en Heilung. Heilung en Wardruna verdien hier spesiale vermelding omdat hulle ’n brug vorm tussen metal en volksmusiek, en tussen musiek en die televisiereeks Vikings.

Heilung is in 2014 deur Kai Uwe Faust, Christopher Juul en Maria Franz gestig (Zorzi 2018; Roe 2019:19; Teitelman 2019; Sommer 2020). Hulle lirieke is in verskeie Germaanse tale geskryf, waaronder Proto-Germaans, byvoorbeeld “In Maidjan”; of Oudnoors, byvoorbeeld “Norupo”. “Norupo” is byvoorbeeld ’n toonsetting van die 13de-eeuse Noorweegse Rune-gedig (Norupo is ’n afkorting van Norwegian Rune Poem), wat ’n uiteensetting van die runes verskaf en in Szőke (2018) bespreek word. Heilung se naam vertaal uit Duits as Heling, wat op sigself interessant is – Simek (2004:81) wys daarop dat Wotan/Woden/Odin aanvanklik met heling verbind was. Die groep het ook ’n internasionale Germaanse herkoms: Franz is van Noorweë, Juul van Denemarke en Faust van Duitsland (Zorzi 2018; Roe 2019:19). Heilung se lied “In Maidjan” is gebruik vir die bemarkingsvideo van die videospeletjie Senua’s Saga: Hellblade II. Hierdie lied is ook op die klankbaan van Vikings gebruik. Heilung word gewoonlik as ’n metal-groep bespreek (Roe 2019:15; Teitelman 2019; Sommer 2020), en Sommer (2020) skryf byvoorbeeld: “Heilung access dark metal’s urgency and lock-jaw intensity without a single guitar in sight.” As deel van die etnosentriese verbintenis met Germaanse mitologie wat voorheen bespreek is en ook by black metal-groepe aangetref word, was daar in 2020 ’n insident by ’n Heilung-vertoning waar konsertgangers vir ’n swart persoon gesê het dat hierdie musiek slegs vir wit mense is, waarna Heilung ’n mediaverklaring uitgereik het om rassisme te veroordeel (Anoniem 2020).

Soos Heilung soms as ’n metal-groep beskryf word, vind ook Wardruna sy wortels in Skandinawiese black metal (Robb 2013; Roe 2019:18) en is die groep trouens gestig deur voormalige lede van die black metal-groep Gorgoroth (Granholm 2011:533). Soos Heilung het ook Wardruna al opgetree by metal-musiekfeeste (Roe 2019:30). Die groep is in 2003 deur Einer “Kvitrafn” Selvik, Kristian “Gaahl” Hella en Lindy-Fay Hella gestig (Roe 2019:17). Wardruna beteken “die klank van die runes” (Robb 2013) en hul lirieke is in moderne Noorweegs, Oudnoors en Proto-Noors (Roe 2019:23). Verskeie liedjies van Wardruna is ingesluit in die klankbaan van Vikings, waaronder “Helvegen”.

In die volgende afdeling word vorige navorsing oor die uitbeelding van die Germane se leefwêreld op Instagram bespreek.

 

4. Sosiale media

Verskeie sosialemediaplatforms word gebruik om aanlyngemeenskappe te skep, waaronder Facebook, Twitter, Instagram en YouTube. Die huidige ondersoek fokus op Instagram, wat in Senekal (2020a, 2020b, 2020c) in besonderhede bespreek word. Instagram is in 2010 as ’n iPhone-toepassing geskep en het vinnig gegroei tot een van die gewildste sosialemediaplatforms ter wêreld. Tans het Instagram meer as ’n miljard gebruikers wêreldwyd en word daar meer as 40 miljoen foto’s per dag op hierdie platform gelaai. Instagram is ’n fotogebaseerde platform wat gebruikers nie toelaat om slegs teks op te laai nie – plasings moet as foto’s, skyfies of kort video’s opgelaai word. Die platform laat ook gebruikers toe om sowel byskrifte as hutsmerke by hul plasings te gebruik, en ander gebruikers word toegelaat om aan te dui of hulle van plasings hou, om kommentaar te lewer en om plasings te deel.

Sosialemediaplatforms maak gereeld gebruik van hutsmerke om plasings te kategoriseer. Hutsmerke is ’n vorm van volksonomie, ’n term wat daarna verwys dat gewone mense (die gebruikers self) die klassifikasie van materiaal behartig, eerder as inligtingskenners (Bennett en Wilkins 2020:1304; Senekal 2020b). Hutsmerke dui oorwegend op die inhoud van ’n plasing, maar kan ook dui op ander assosiasies van die gebruiker, byvoorbeeld waar en wanneer ’n foto geneem is, of Instagram-verwante hutsmerke (#instagood) (Senekal 2020b). Die belangrikste aspek van hutsmerke om hier in gedagte te hou, is dat dit gaan om ’n assosiasie van die gebruiker (Senekal 2020a:225).

Instagram-plasings wat verband hou met die Germaanse kulture word bestudeer in Bennett en Wilkins (2020), Downing (2020) en Hanssen (2020). Bennett en Wilkins het plasings bestudeer waarin die hutsmerke #rune en #tattoo voorkom in ’n poging om ondersoek in te stel na hoe mense tatoeëermerke gebruik om met hul erfenis te identifiseer. Hulle bespreek die gebruik van runes in ’n New Age-, Asatrú- en wit-nasionalistiese opset en wys hoe Instagram selfidentifikasie bemiddel. Downing (2020) bestudeer Instagram-plasings met die hutsmerke #norsewitch, #heathengirl, #seidr, #volva, #galdr, #norsepagan, #heathensofInstagram, #witch, #runes, #viking, #shamanism en #witchesofInstagram. Sy onderneem ’n studie van vroulike Instagram-gebruikers met ’n eksplisiete heidense uitkyk en bespreek hoe hulle hulself en hul boodskap op hierdie platform bemark. Hanssen (2020) noem nie watter hutsmerke hy bestudeer het nie en het eerder op spesifieke gebruikers gefokus. Hy bevind dat mans wat as Ásatrúers identifiseer meer tradisionele manlike rolle beklee as wat die geval is met mans wat as Wiccans identifiseer, terwyl Wiccans meer vloeibaar met geslagsrolle omgaan. Mans wat as Ásatrúers identifiseer, sal hulself byvoorbeeld sterk met ’n krygerkultuur verbind. Nie een van hierdie studies bied bevindinge gegrond op kwantitatiewe data aan nie en ook nie een van hierdie studies betrek spesifiek die hutsmerk #germanic nie.

 

5. Etiese kwessies

Wanneer sosialemediadata gebruik word, moet etiek ook in ag geneem word. Downing (2020) maak gebruik van openbare profiele, en omdat sy ’n klein aantal profiele gebruik het, het sy toestemming by elke gebruiker verkry en noem hulle name in haar studie. Hanssen (2020) gebruik ook ’n klein aantal profiele en verkry hulle toestemming om hul plasings te gebruik, maar hy vervang die meeste gebruikers se name met skuilname. Bennett en Wilkins (2020) gebruik ook openbare profiele, maar omdat hulle ’n groot aantal gebruikers se plasings gebruik, verkry hulle nie toestemming van gebruikers nie maar gebruik gebruikers se plasings anoniem. In Senekal (2020a) gebruik ek ook gebruikers se plasings anoniem en sluit slegs openbare profiele in. In navolging van Bennett en Wilkins (2020) en Senekal (2020a) word daar in die huidige ondersoek slegs plasings gebruik wat in die openbare domein gemaak is (met ander woorde nie van private rekeninge nie), en gebruikersname word nie bekendgemaak nie. Voorbeelde van plasings is ook só gekies dat gebruikers se gesigte nie sigbaar is nie.

In die volgende afdeling word die metodes bespreek wat in die huidige ondersoek gevolg is.

 

6. Metodes

Alle plasings wat op Instagram gemaak is met die hutsmerk #germanic, asook metadata (die datum en tyd van die plasing, die soort plasing, die plasing se byskrif, die getal houvans wat die plasing verwerf het en die getal kommentare wat die plasing verwerf het) is op 11 Januarie 2021 met behulp van die toepassing Instabro (https://instabro.app) versamel. Gebruikers se name en liggings is nie versamel nie. Die hutsmerk #germanic is gekies omdat dit direk verwys na die Germane, maar ook wyer konnotasies het as byvoorbeeld #asatru, wat op ’n spesifieke gebruik dui, of #scandinavian, wat op ’n spesifieke geografiese gebied dui. Die oogmerk is om te bepaal wat met die term Germaans op Instagram geassosieer word, hetsy gebruike, begrippe, populêre kultuur, geografiese gebiede of tydperke. Alle plasings wat met hierdie hutsmerk gemaak is, is in berekening gebring, van die eerste plasing in 2012 tot aan die einde van 2020, maar duplikate is verwyder. Aangesien die versameling in Januarie 2021 plaasgevind het, is daar besluit om nie plasings van 2021 in berekening te bring nie.

Nadat die plasings versamel is, is verdere metadata toegevoeg. Hutsmerke is onttrek deur gebruik te maak van ’n gereelde uitdrukking;4 die taal van byskrifte, uitgesluit die hutsmerke, is outomaties herken;5 en die getal woorde wat in ’n byskrif gebruik is, is met behulp van ’n verdere gereelde uitdrukking6 getel. Die voorkoms van hutsmerke is daarna getel en die 2 000 algemeenste hutsmerke is geklassifiseer op grond van kategorieë wat uit die data na vore gekom het, asook teen die agtergrond van die literatuur soos hier bo bespreek. In ’n studie van Joodse identiteit bestudeer Ichau, Frissen en d’Haenens (2019) Instagram-plasings met die hutsmerke #jew, #jewish, en #jews en ken hulle hul eie kategorieë toe op grond van die onderliggende data omdat hulle (2019:5) argumenteer dat kategorieë en patrone uit die data na vore kom deur noukeurige leeswerk en konstante vergelyking.

Dieselfde prosedure is in die huidige studie gevolg. Teen die agtergrond van die literatuur oor die Germane is hutsmerke in kategorieë verdeel en kategorieë is hersien en verfyn. Daar is byvoorbeeld gemerk dat baie hutsmerke na plekname verwys, en dat die ligging van Germaanse stamme duidelik in die literatuur omskryf is, en daarom is ’n kategorie plek geskep. Daar is ook gemerk dat heelwat hutsmerke na diere verwys, en  omdat diere ’n belangrike rol in die Noorse mitologie speel, is ’n kategorie vir diere geskep. Daar is gemerk dat heelwat hutsmerke na tydperke verwys, terwyl ook die literatuur na spesifieke tydperke verwys, en daarom is ’n kategorie tydperk geskep, ens.

Die 2 000 algemeenste hutsmerke het elk meer as 30 keer voorgekom, wat daarop dui dat die res van die hutsmerke min in hierdie datastel voorkom. Die 2 000 hutsmerke wat die meeste saam met #germanic voorkom, is derhalwe die sigbaarste, omdat elkeen meer as 30 keer saam met #germanic voorkom. Die volgende kategorieë is gebruik:

  1. Die Germaanse stamme het ’n gedeelde taal en kultuur (Barnes 2008:274) en daarom is hutsmerke soos #germanic, #vikings en #norse onder die kategorie taal en kultuur geklassifiseer.
  2. Hedeager (2008:12) merk op dat die Germane se tuiste algemeen gesien word as Skandinawië; gevolglik is ’n kategorie plek geskep vir plekname wat saam met #germanic gebruik word, byvoorbeeld #germany, #iceland en #norway.
  3. Aangesien die Germaanse volke sedert die Ystertydperk bekend is (Simek 2004:75), is ’n kategorie tydperk geskep om ondersoek in te stel na watter tydperke met #germanic verbind word, waaronder hutsmerke soos #bronzeage, #middleages en #migrationage geklassifiseer is.
  4. Omdat Von Schnurbein (2016:89–91) skryf dat die belangstelling in die Germaanse gelowe veral saamhang met ’n gevoel van behoort, is ’n kategorie erfenis geskep, waaronder hutsmerke soos #ancestry, #heritage en #oldworld geklassifiseer is.
  5. Beuermann (2011:369) noem dat die Vikings se kultuur ’n krygerkultuur was, daarom is ’n kategorie krygerkultuur bygevoeg, waaronder hutsmerke soos #sword, #armor en #bersekr geklassifiseer is.
  6. Von Schnurbein (2016:20) en ander se uitsondering van ’n aantal sleuteltekste was die aansporing vir ’n kategorie tekste, waaronder hutsmerke soos #edda, #beowulf en #nibelungenlied geklassifiseer is.
  7. Volgens Simek (2004:73) en Von Schnurbein (2016:54) het belangstelling in die Germane se gelowe en kulture onlangs toegeneem, en daarom is ’n kategorie geloof en kultuur geskep, waaronder hutsmerke soos #asatru, #norsemythology en #odin geklassifiseer is. Hierdie afdeling is verder onderverdeel om meer spesifiek op die voorkoms van verwysings na spesifieke gode te fokus, asook op simbole, feeste en diere. Diere het byvoorbeeld ’n belangrike funksie in die Noorse mitologie, waar Odin twee rawe (Huginn en Muninn) en twee wolwe (Freki en Geri) aan sy sy het.
  8. Ásatrú is sterk natuurgeoriënteer (Gunstad 2015:26; Von Schnurbein 2016:133; Hanssen 2020:12) en daarom is ’n kategorie vir natuurverwante hutsmerke geskep, waaronder byvoorbeeld #summer, #landscape en #snow.
  9. Aangesien Kieser (2019:1) let op die voorkoms van verwysings na die Germane se leefwêreld in die populêre kultuur, is ’n kategorie populêre kultuur geskep, waaronder byvoorbeeld #wardruna, #blackmetal en #folkmetal geklassifiseer is. Hierdie kategorie is onderverdeel in musiek, film en televisie.
  10. Ander hutsmerke is as ander geklassifiseer.

Die klassifikasie van hutsmerke het met ander woorde geskied soos in Figuur 1.

Figuur 1. Die klassifikasie van hutsmerke

Een probleem met die klassifikasie van hutsmerke is egter meerduidigheid – dit is onduidelik of #vikings na die kultuur of die televisiereeks verwys, soos #barbarians ook na die Germane of die televisiereeks kan verwys en #ragnarlothbrok na die legendariese figuur of die karakter in Vikings. Probleme met meerduidigheid word in die bespreking hier onder uitgelig.

Downing (2020:201) noem dat nie alle Instagram-gebruikers wat Ásatrú-rekeninge op Instagram volg, beskryf kan word as Ásatrúers (“heidene”) nie. In vele gevalle is gebruikers wat rekeninge volg wat Ásatrú-materiaal plaas, bloot mense met ’n belangstelling in hierdie kultuur, nie noodwendig mense wat hierdie geloofsoortuiging deel nie. Dít is ’n belangrike onderskeid om in ag te neem: in die bespreking hier onder is die plasings nie noodwendig van Ásatrúers nie, maar van mense wat belangstel in hierdie kultuur. Von Schnurbein (2016:70) en Dijk (2017:27) skryf ook dat sommige lede van die Yslandse Ásatrúarfélagið – die liggaam wat verantwoordelik is vir die bestuur van Ásatrú in Ysland – nie noodwendig tot die organisasie behoort as gevolg van geloof nie, maar eerder uit ’n erfenisbewaringsoogpunt. Die doel is derhalwe om belangstelling in hierdie deel van die Germaanse erfenis te bestudeer, nie om te bepaal hoe gewild die geloof geword het nie.

Omdat die huidige ondersoek so ’n groot datastel betrek, is daar nie ruimte om alle fasette van hierdie verskynsel op Instagram te ondersoek nie. Slegs die algemeenste hutsmerke word in berekening gebring en verdere ondersoeke kan moontlik nuanses uitlig. Daar word ook op hutsmerke gefokus en daarom word daar nie ’n poging aangewend om die inhoud van fotoplasings te ondersoek nie. Die hutsmerk #germanic is boonop slegs een van vele hutsmerke wat ondersoek kan word – #vikings het byvoorbeeld tans bykans vyf miljoen plasings en #asatru het meer as 300 000.

 

7. Resultate en bespreking

7.1 ’n Oorsig oor die datastel

Hierdie onderafdeling bespreek die datastel: wanneer plasings gemaak is, wat die aard van plasings is, die mate van reaksies op plasings en die byskrifte wat gebruik is. Die volgende onderafdeling bespreek die hutsmerke wat gebruik is in meer besonderhede.

Daar was 39 219 unieke plasings tussen 10 Februarie 2012 (die datum van die eerste plasing) en 31 Desember 2020, wat beteken dat plasings oor agt jaar teen ’n gemiddeld van 12,04 plasings per dag, 366,53 per maand of 4 902,38 per jaar gemaak is. Plasings het oor die algemeen jaarliks toegeneem, soos in Figuur 2 gesien kan word.

Figuur 2. Die getal plasings per jaar met die hutsmerk #germanic

Dit beteken dat daar ’n algemene toename van 18 996% vanaf 2012 tot 2020 plaasgevind het, wat dui op ’n besondere toename in belangstelling in begrippe wat saamhang met die Germane. Neem ook in ag dat Senekal (2020a:219) slegs 7 157 plasings rakende Afrikaanse skrywers kon vind. Die doel van die huidige ondersoek is nie om onderwerpe met mekaar te vergelyk nie, maar bykans 40 000 plasings dui op ’n beduidende belangstelling in hierdie onderwerp, en boonop neem die belangstelling aantoonbaar toe.

Plasings is oorwegend in fotoformaat, met 37 594 foto’s (95,86% van plasings) en 215 skyfies (0,55% van plasings), teenoor 1 410 video’s (3,6% van plasings).

Daar is 6 628 505 keer aangedui dat gebruikers van ’n plasing hou, met ’n gemiddeld van 169,01 houvans per plasing. Die plasing waarvan die meeste mense gehou het, is ’n plasing met 15 038 houvans. Plasings het ook ’n totaal van 198 388 kommentare ontvang, met ’n gemiddeld van 5,06 kommentare per plasing en ’n maksimum van 3 284 kommentare per plasing. 18 430 plasings (46,99% van die totaal) het geen kommentare ontvang nie. In Senekal (2020a:222) word aangedui dat gebruikers gemiddeld 44 houvans per plasing oor Afrikaanse skrywers aangedui het, met ’n maksimum van 2 865 houvans per plasing. Die groot aantal houvans (en tot ’n mindere mate kommentare) rondom #germanic dui op ’n groot mate van betrokkenheid van die Instagram-gemeenskap by plasings wat met #germanic gemaak word.

Die taal waarin byskrifte geplaas is, is ook herken, maar in sommige gevalle het gebruikers slegs hutsmerke as byskrifte gebruik en is die taal daarom as ongedefinieer aangedui. Byskrifte is in 87 tale geplaas, die meeste daarvan in Engels (19 075 plasings of 48,64% van alle plasings); ongedefinieer (12 183 plasings of 31,06% van alle plasings); Duits (1 478 plasings of 3,77% van alle plasings); Portugees (873 plasings of 2,23% van alle plasings); en Yslands (340 plasings of 0,87% van alle plasings). Die oorwig van Engels is myns insiens daaraan toe te skryf dat Engels ’n wêreldtaal is en gebruikers ’n wye gehoor probeer bereik. Duits se posisie in die derde plek verbaas nie, aangesien Duitsland trouens sy naam (in Engels) van die Germane gekry het, terwyl Yslands se vyfde posisie eweneens nie verbaas nie, aangesien Ysland ’n groot rol in die optekening van Noorse mitologie in die Middeleeue gespeel het en die eerste land was wat Ásatrú as amptelike geloof erken het. Portugees is egter interessant en mag dui op ’n verbintenis met die Vandale en Visigote wat tydens die Völkerwanderung na hedendaagse Portugal en Spanje migreer het (Murdoch en Read 2004:8). Slegs 22 plasings se taal is as Afrikaans herken.

Daar is 683 571 hutsmerke saam met plasings ingesluit, waarvan 56 343 unieke hutsmerke is. Plasings bevat gemiddeld 17,43 hutsmerke per plasing. Die algemeenste hutsmerke word hier onder in meer besonderhede bespreek.

7.2 Die algemeenste hutsmerke

Hierdie onderafdeling bespreek die hutsmerke wat die meeste saam met #germanic op Instagram voorkom. Vir die bespreking volg ek die volgorde wat hier bo in die uiteensetting van kategorieë en in Figuur 1 gebruik is en konsentreer op die 10 hutsmerke wat onder elke kategorie die meeste saam met #germanic voorkom. Tabelle is verdeel ter wille van leesbaarheid: Tabel 1 dui die hutsmerke aan wat onder taal en kultuur, plekname, tydperk, erfenis, krygerkultuur en teks ingedeel is; Tabel 2 dui die hutsmerke aan wat onder geloof en mitologie, gode, simbole, diere, natuur en feeste ingedeel is; en Tabel 3 dui hutsmerke aan wat onder musiek, film en televisie ingedeel is. Die getal plasings waarin hutsmerke voorkom, word telkens by elke onderafdeling weergegee.

Tabel 1A dui die 10 algemeenste hutsmerke aan wat onder taal en kultuur geklassifiseer is. Hier kan ’n duidelike verband tussen die Germaanse taal en kultuur en dié van Skandinawië gesien word, byvoorbeeld deur hutsmerke soos #norse, #northmen en #icelandic wat almal gereeld saam met #germanic voorkom. Hedeager (2008:12) se opmerking dat die Germane se identiteit vervleg is met Skandinawië word met ander woorde ook aangetref op Instagram, soos gesien kan word in die hutsmerke wat gebruikers saam met #germanic plaas. Die hutsmerk #celtic is ook interessant omdat dit op ’n noue verbintenis tussen die Germane en die Kelte op Instagram dui, terwyl hulle in die eerste eeue n.C. ook in noue kontak met mekaar was (Murdoch en Read 2004:4).

Tabel 1B dui plekke aan wat met die Germane verbind word en hier is dit veral Noord-Europa wat sentraal staan: Skandinawië, Europa en lande soos Noorweë, Ysland, Duitsland, Swede en Finland. Die verband tussen Skandinawië en die Germaanse volke bestaan met ander woorde steeds duidelik op Instagram. Hierdie verskynsel kan selfs duideliker gesien word in die kaart in Figuur 3 hier onder, waar ’n sterk konsentrasie in Skandinawië en Duitsland voorkom, met minder plekname in die res van Europa en baie min op ander kontinente. Dit is ook opvallend dat verwysings na Suid-Afrika nie voorkom onder die 2 000 algemeenste hutsmerke in dié datastel nie.

Tabel 1C dui tydperke aan wat met die Germane verbind word en hier kan gesien word dat veral die Donker Eeue (vroeë Middeleeue) met die Germaanse volke verbind word, wat ook oorvleuel met die Völkerwanderung, maar ook die Middeleeue oor die algemeen, die Ystertydperk, die Völkerwanderung en die Vendel-tydperk (c. 550–800 n.C.) word met die Germane verbind.

Tabel 1D dui die algemeenste hutsmerke aan wat onder erfenis geklassifiseer is. Hieronder val algemene hutsmerke wat met tradisies, voorouers en geskiedenis saamhang.

Tabel 1E dui hutsmerke aan wat met ’n krygerkultuur verbind kan word. Hier is dit interessant dat byle op hierdie platform meer gereeld as swaarde met #germanic geassosieer word. #berserker en #ulfhednar verwys na die Oudnoorse terme bersekr (“beerhemp”) en ulfheðnar (“wolfjas”), wat krygers is wat in die fornaldarsögur met Odin verbind word (Raudvere 2008:242). #shieldmaiden verwys na ’n vroulike kryger en is ’n begrip wat die televisiereeks Vikings deur die karakter Lagartha (gespeel deur Katheryn Winnick) gepopulariseer het, wat in die reeks Ragnar Lothbrok se eerste vrou is. Saxo Grammaticus (2015a:633) verwys na haar as Lathgertha:

Among these had appeared Lathgertha, a skilled female fighter, who bore a man’s temper in a girl’s body; with locks flowing loose over her shoulders she would do battle in the forefront of the most valiant warriors. Everyone marvelled at her matchless feats, for the hair to be seen flying down her back made it clear that she was a woman; as soon as Ragnar had laid his grandfather’s slayer in the dust, he made particular enquiries of his fellow-soldiers as to the identity of the girl he had noted in the vanguard; he confessed that his victory was due to her energy alone. Having discovered that she was of distinguished foreign birth, he set about wooing her with determination through intermediaries.

Tabel 1F dui die tekste aan wat die meeste in hutsmerke vermeld word. #germania is hier geneem as Tacitus se teks, alhoewel dit ook na die geografiese gebied sou kon verwys en daarom moet die groot verskil tussen #germania en #beowulf versigtig hanteer word. Ander belangrike tekste, volgens die hutsmerke wat die meeste saam met #germanic voorkom, is Beowulf, die (Yslandse) sagas, die Eddas (insluitend die Hávamál) en die Nibelungenlied (Anoniem 2010), waar Siegfried (Sigurd) en Kriemhild (Gudrun) die hoofkarakters is.

Tabel 1. Hutsmerke wat die meeste saam met #germanic voorkom

1A Getal voorkomste: 132 728 1B Getal voorkomste: 47 141
Rang Taal en kultuur Telling Rang Plekname Telling
1 #germanic 31 647 1 #scandinavia 8 148
2 #viking 13 932 2 #norway 6 572
3 #norse 13 599 3 #iceland 6 146
4 #barbarian 7 248 4 #germany 2 696
5 #norseman 7 021 5 #europe 2 071
6 #northmen 6 737 6 #scandinavian 1 898
7 #icelandic 5 261 7 #sweden 1 736
8 #nordic 3 924 8 #european 1 214
9 #celtic 3 191 9 #finland 1 090
10 #german 1 805 10 #europa 844
1C Getal voorkomste: 12 283 1D Getal voorkomste: 13 632
Rang Tydperk Telling Rang Erfenis Telling
1 #thedarkages 7 506 1 #history 2 909
2 #medieval 1 224 2 #tradition 806
3 #ancient 829 3 #oldways 782
4 #ironage 489 4 #ancestors 742
5 #darkage 365 5 #folklore 693
6 #middleages 289 6 #heritage 597
7 #earlymedieval 263 7 #livinghistory 494
8 #migrationperiod 230 8 #historical 435
9 #vendel 186 9 #traditional 415
10 #mittelalter 138 10 #tribal 360
1E Getal voorkomste: 13 145 1F Getal voorkomste: 11 287
Rang Krygerkultuur Telling Rang Teks Telling
1 #vikingwarrior 6 691 1 #germania 8 332
2 #warrior 1 239 2 #beowulf 1 061
3 #berserker 657 3 #saga 435
4 #shieldmaiden 524 4 #havamal 407
5 #warriors 435 5 #edda 401
6 #axe 334 6 #siegfried 128
7 #ulfhednar 293 7 #nibelungen 85
8 #sword 289 8 #nibelungenlied 72
9 #honor 276 9 #kriemhild 64
10 #battle 271 10 #poeticedda 59

 

Figuur 3. Plekname wat met #germanic geassosieer word

Tabel 2 dui ’n paar verdere hutsmerke en verbintenisse aan. Soos Tabel 1, is Tabel 2 ter wille van ruimtebesparing onderverdeel.

In Tabel 2A word die algemeenste hutsmerke gesien wat onder geloof en mitologie geklassifiseer is. Hier is verskeie hutsmerke wat op die heidense geloof betrekking het, asook Midgard (die plek waar die mens in die Noorse mitologie woon) en die runes. Dit is nie hier moontlik om te bepaal of die gebruik van hutsmerke dui op gebruikers se geloofsoortuigings nie.

Tabel 2B dui die gode aan wat die meeste in hutsmerke genoem is. Hier is hutsmerke gekombineer om vir variasies in spelling voorsiening te maak – #odin, #woden, #wotan, #wuotan en #odinn is byvoorbeeld as Odin gekombineer. Ek volg die spelling in Afrikaans soos voorgestel deur Marais (2014:218–20). Omskrywings, byvoorbeeld #allfather, #oneeye en #godofthunder, is ook omgeskakel na die naam van die god, hier onderskeidelik na Odin en Thor. Odin kan in Tabel 1B gesien word as die god wat die meeste genoem word, gevolg deur Thor en Frey. Die verskil tussen die getal vermeldings van Odin en Thor is egter groot, wat sy belangrikheid beklemtoon. Hierdie vooropstelling van Odin is interessant in die lig van Simek (2004:81) se opmerking dat Odin ook die dominante god tydens die Ystertydperk was en Beuermann (2011:370) se beklemtoning daarvan dat Odin tydens die Viking-era met die heersersklas verbind word. Odin oorheers met ander woorde die diskoers op Instagram in die 2010’s, soos hy die Viking-era en die Ystertydperk gedomineer het. Alhoewel verwysing na Nerthus min in hierdie datastel voorkom, is haar teenwoordigheid op hierdie lys interessant omdat sy een van min Germaanse gode is wat deur Tacitus (1999:58) by die naam genoem word. Skadi (Skaði) is ook interessant, alhoewel daar nie gereeld na haar verwys word nie; sy word met die winter, die dood en wolwe verbind (Gimbutas 1999:194).

Tabel 2C dui die simbole aan wat die meeste genoem word. Thor se hamer (mjolnir) neem ’n sentrale posisie in, asook die vegvísir, wat in Figuur 4 hier onder gesien kan word. Mjolnir word hier as simbool geklassifiseer omdat dit meestal as simbool gebruik word, nie slegs as verwysing na Thor se wapen nie. Die vegvísir en ægishjálmur word wyd met die Viking-era geassosieer, maar dateer uit latere Yslandse manuskripte (1400–800) (Bennett en Wilkins 2020:1305). Nietemin kan hier gesien word dat hierdie twee simbole tans sterk met die Germaanse leefwêreld verbind word. Ander simbole wat met #germanic verbind word, sluit die valknut en die sonwiel in. Die valknut word gewoonlik met Odin verbind en kan ook in Figuur 4 hier onder gesien word. Alhoewel die swastika nie noodwendig ’n Nazi-simbool is nie, kan dit as ’n Nazi-simbool gelees word, maar hierdie simbool kom slegs in 49 plasings voor. Aansluitend hierby is hutsmerke nagegaan vir neo-Nazi-terme en simbole, maar #whitepeople kom slegs 92 keer voor, #rightwing kom 86 keer voor en #nazi kom 42 keer voor. Die assosiasie van #germanic met Nazisme is met ander woorde gering, ten minste ten opsigte van hutsmerke.

Tabel 2D wys die diere wat die meeste saam met #germanic genoem word. Soos met die gode in Tabel 1B is diere hier gekombineer om vir verskillende tale en spellings voorsiening te maak. Daar is byvoorbeeld #varg wat dui op die Oudnoorse vorm van wolf. Mitologiese diere, soos die wolf Fenrir, die slang Jormungand, Odin se perd Sleipnir en Odin se rawe Huginn en Muninn, word ook hier as diere geklassifiseer. Hier kan duidelik gesien word dat die wolf die sterkste met #germanic verbind word, gevolg deur die raaf. Die kategorie algemeen verwys na hutsmerke waar geen spesifieke diere genoem word nie, byvoorbeeld #animal.

Tabel 2E lys die algemeenste hutsmerke wat na die natuur verwys en hier is dit opvallend dat woude en die winter ’n belangrike rol speel. Woude en berge speel ’n belangrike rol in Skandinawiese black metal (Kahn-Harris 2007:41), en so ook die ekstreme klimaat van Skandinawië (Von Schnurbein 2016:339). Soos Skandinawiese black metal die omgewing en klimaat van Skandinawië met Noorse mitologie in verband bring, is daar met ander woorde ook ’n verband tussen hierdie klimaat en die hutsmerk #germanic (#summer kom 131 keer voor en #spring kom 143 keer voor – minder as die helfte soveel keer as #winter). Boonop haal Murdoch (2004:58) vir Gill (2002:179) aan wat skryf oor die sielkundige impak van die Slag van Teutoburg-woud:

The slaughter in the Teutoburg Forest divided Europe into the warm south, who forever saw forests as dreadful places to be avoided and cleared, homes to dragons and trolls, antitheses of the civilized city, and the north, who understood them to be healing, protecting, mystical, spiritual places. How you feel about a silent birch forest at twilight says more about your blood and your kin than your passport.

Die verbintenis tussen die hutsmerk #germanic en woude wat op Instagram bestaan, bestaan met ander woorde ook in black metal en volgens Gill is hierdie verband tussen die Germane en die woud ’n gevolg van die Slag van Teutoburg-woud.

Tabel 2F wys die algemeenste hutsmerke wat na feeste verwys. Yule/Jul/Kersfees neem hier die dominante posisie in. Feeste soos Samhain en Beltane word gewoonlik eerder geassosieer met Keltiese gelowe en Wicca, en hul teenwoordigheid op hierdie lys dui op die noue verbintenis tussen Ásatrú, Kelties en Wicca wat deur Von Schnurbein (2016:51–3) bespreek word.

Tabel 2. Verdere hutsmerke wat die meeste saam met #germanic voorkom

2A Getal voorkomste: 113 681 2B Getal voorkomste: 16 059
Rang Geloof en mitologie Telling Rang Gode Telling
1 #norsemythology 9 792 1 Odin 8 978
2 #pagan 8 666 2 Thor 2 913
3 #norsepagan 7 594 3 Loki 884
4 #midguard 6 307 4 Frikka 599
5 #heathen 5 402 5 Tyr 521
6 #odin 4 447 6 Freya 274
7 #asatru 3 837 7 Heimdall 161
8 #runes 3 288 8 Skadi 67
9 #paganism 3 249 9 Njord 58
10 #thor 2 381 10 Nerthus 37
2C Getal voorkomste: 1 631 2D Getal voorkomste: 2 600
Rang Simbole Telling Rang Diere Telling
1 #mjolnir 448 1 wolf 971
2 #vegvisir 250 2 raaf 672
3 #thorshammer 210 3 arend 224
4 #valknut 202 4 slang 205
5 #helmofawe 134 5 algemeen 159
6 #sunwheel 126 6 perd 121
7 #aegishjalmur 93 7 takbok 82
8 #thorhammer 85 8 beer 78
9 #swastika 49 9 hond 56
10 #celticknots 34 10 kraai 32
2E Getal voorkomste: 11 659 2F Getal voorkomste: 1 369
Rang Natuur Telling Rang Feeste Telling
1 #landscape 4 089 1 #yule 452
2 #nature 1 482 2 #christmas 263
3 #winteriscoming 1 002 3 #yuletide 215
4 #forest 554 4 #solstice 115
5 #winter 325 5 #easter 83
6 #natur 210 6 #samhain 77
7 #autumn 181 7 #jul 72
8 #woods 179 8 #beltane 59
9 #sun 144 9 #yuletideseason 33
10 #spring 143 10    

 

Tabel 3 dui hutsmerke aan wat na populêre kultuur verwys. Soos met Tabel 1 en 2 is die tabel onderverdeel om plek te bespaar.

Tabel 3A wys die hutsmerke wat na musiek verwys en wat die meeste saam met #germanic voorkom. Wardruna en Faun word die meeste genoem, gevolg deur Heilung (#heilung, #heilungband en #mariafranz), maar die verbintenis met metal is ook duidelik te sien uit die verskeie hutsmerke wat hiermee saamhang. Die hutsmerke wat na metal verwys, is egter algemene hutsmerke, en individuele groepe, soos Amon Amarth, kom nie so gereeld voor nie (#amonamarth kom byvoorbeeld slegs 37 keer voor). Varg Vikernes se sentrale posisie in hierdie diskoers is egter duidelik te sien daarin dat hierdie hutsmerk die vyfde meeste in hierdie kategorie voorkom. Hutsmerke wat met musiek verbind kan word, kom 16 223 keer in hierdie datastel voor, wat toon dat musiek ’n belangrike rol in hierdie diskoers speel. Let ook daarop dat #wardruna en #faunband elk meer as 6 000 keer in hierdie datastel voorkom – hulle is onderskeidelik die 16de en 22ste algemeenste hutsmerke wat saam met #germanic voorkom.

Verwysings na films, soos weergegee in Tabel 3B, is egter skaars. Slegs Conan the barbarian (dit is onduidelik na watter weergawe hutsmerke verwys, 1982 of 2011) ontvang ’n beduidende getal verwysings, terwyl dit onduidelik is of #harrypotter en #lordoftherings (en laasgenoemde se afkorting, #lotr) na die oorspronklike boeke of filmverwerkings verwys. Alhoewel dit belangrik was om verwysings na films te toets soos verwysings na TV-reekse en musiek getoets is, dui die lae voorkoms van filmverwante hutsmerke daarop dat films nie so belangrik in hierdie diskoers op Instagram is soos byvoorbeeld musiek nie.

Verwysings na televisiereekse, soos weergegee in Tabel 3C, is problematies omdat #vikings en #barbarians nie noodwendig na die televisiereekse verwys nie, soos ook die geval is met #ragnar en #ragnarlothbrok. The witcher (2019–2021) en Game of thrones (2011–2019) is boonop fantasiereekse wat nie duidelik betrekking het op die Germane nie. As gevolg van die meerduidigheid van die hutsmerke #vikings en #barbarians is dit moeilik om op grond van die voorkoms van hutsmerke ’n geldige afleiding oor televisiereekse se posisie in hierdie diskoers te maak. Myns insiens is ’n groot deel van die plasings wat #vikings en #barbarians noem, verwysings na televisiereekse, maar die presiese verhouding kan nie hier bepaal word nie.

Tabel 3. Verdere hutsmerke wat die meeste saam met #germanic voorkom

3A Getal voorkomste: 16 223 3B Getal voorkomste: 4 063
Rang Musiek Telling Rang Film Telling
1 #wardruna 6 787 1 #conanthebarbarian 3 628
2 #faunband 6 542 2 #krampus 168
3 #blackmetal 536 3 #harrypotter 96
4 #metal 450 4 #krampusnacht 86
5 #vargvikernes 271 5 #lotr 44
6 #heilung 248 6 #lordoftherings 41
7 #metalhead 193 7    
8 #heavymetal 176 8    
9 #heilungband 172 9    
10 #mariafranz 123 10    
3C Getal voorkomste: 19 579      
Rang Televisie Telling      
1 #vikings 11 793      
2 #thewitcher 1 192      
3 #thewitcher3 985      
4 #vikingsfan 980      
5 #thegameofthrones 978      
6 #thewitcher2 978      
7 #ragnarlothbrok 620      
8 #ragnar 531      
9 #barbarians 470      
10 #thewitcher3wildhunt 256      

 

Figuur 4 verskaf ses voorbeelde van Instagram-plasings wat met die hutsmerk #germanic in hierdie datastel gemaak is. Kloksgewys is dit die karakter Ragnar Lothbrok (gespeel deur Travis Fimmel) van die televisiereeks Vikings, ’n toneel uit die televisiereeks Barbarians, ’n kunsfoto, ’n tatoeëermerk van die vegvísir met die valknut in die middel, Maria Franz van Heilung tydens ’n vertoning, en Odin se rawe, Huginn en Muninn (die gepaardgaande runes spel Huginn en Muninn). Die bloed op die hande in die kunsfoto is ook beduidend: Die term vir ’n ritueel in Ásatrú is blót, wat letterlik bloed in Oudnoors beteken maar ook offerande beteken (Von Schnurbein 2016:106; Dijk 2017:32; Hanssen 2020:18).

Figuur 4. Ses voorbeelde van Instagram-plasings met die hutsmerk #germanic

Met bykans 40 000 plasings op Instagram oor die afgelope agt jaar en met inagneming van die toename in die getal plasings per jaar is dit duidelik dat belangstelling in die Germane se leefwêreld toeneem. Instagram-gebruikers assosieer duidelik die Germane met Noord-Europa en veral Skandinawië. Dieselfde gode neem sentrale posisies in en die Germane word tot ’n groot mate met ’n krygerkultuur geassosieer. Hierdie kontinuïteit verras nie, omdat die Germane se geloof en kultuur herskep is op grond van die verskeie inligtingsbronne wat vroeër in die artikel bespreek is. Dit is egter interessant dat Instagram-gebruikers blykbaar kennis dra van wat oor die afgelope paar dekades oor die Germane gepubliseer is, insluitende belangrike tekste. Dit toon dat Instagram-gebruikers wat plasings maak met die hutsmerk #germanic, aktief meedoen aan die versameling en verspreiding van inligting op hierdie platform. Dit is met ander woorde ’n aanduiding van ’n ingeligte groep gebruikers wat aan hierdie gesprek deelneem.

Musiek neem ’n belangrike posisie in hierdie oplewing in belangstelling in en dit is veral die groepe Wardruna, Faun en Heilung wat uitgelig is, tesame met metal-groepe. Heilung en Wardruna se posisie tussen volksmusiek en metal is in hierdie opsig interessant, omdat dit voorkom of hulle ’n wyer gehoor kan aanspreek as die metal-groepe, maar terselfdertyd verskaf hulle ’n brug met die televisiereeks Vikings wat – gegewe die voorkoms van ’n hutsmerk soos #shieldmaiden – ook ’n belangrike rol in hierdie oplewing in belangstelling speel.

Die gebruik van hutsmerke wat duidelik saamhang met geloofsoortuigings, byvoorbeeld #asatru, skep ook die indruk dat Instagram dieselfde toename in belangstelling in die kultuur van die Germane weerspieël wat deur Von Schnurbein (2016:54) gemerk is. Dit is egter ook interessant dat daar min hutsmerke in die datastel voorgekom het wat ooglopend met neo-Nazi-bewegings verbind kan word, wat daarop mag dui dat belangstelling in die Germane se tradisies minder bagasie dra as wat voorheen die geval was.

 

8. Ten slotte

Hierdie ondersoek het op vorige kwalitatiewe verkennings van die uitbeelding van die Germane se leefwêreld op Instagram gevolg en ’n kwantitatiewe oorsig oor dié verskynsel op hierdie platform gebied. Met inagneming van bykans 40 000 plasings oor agt jaar (van die eerste plasing in 2012 tot einde 2020) is die gebruik van hutsmerke ondersoek. Wat veral treffend na vore kom, is dat Instagram-gebruikers die Germane sterk verbind met Noord-Europa. Hulle plaas Odin en Thor in ’n prominente posisie soos hierdie gode ook ’n prominente posisie sedert die Ystertydperk beklee het, en hulle gebruik populêre kultuur – veral musiek – in hierdie hernude belangstelling. Die toename in plasings stem ook ooreen met kenners soos Von Schnurbein (2016:54) se stellings dat daar ’n hernude belangstelling in hierdie onderwerp is. Alhoewel neo-Germaanse bewegings na die Tweede Wêreldoorlog in die skadu van Nazisme moes funksioneer, is dit duidelik uit die ontleding van hutsmerke dat belangstelling in die Germane se leefwêreld tot ’n groot mate hierdie verbintenis afgeskud het, alhoewel nie volkome nie.

Die hutsmerk #germanic ondervang egter nie die totale skaal van hierdie hernude belangstelling nie; hutsmerke soos #vikings is aansienlik gewilder. Toekomstige navorsing kan groter datastelle rondom meer gewilde hutsmerke verken. Die onderhawige ondersoek het ook nie ’n onderskeid getref tussen belangstelling en geloofsoortuigings nie, en die inhoud van foto’s is nie ondersoek nie.

 

Bibliografie

Anoniem. 1928. The poetic Edda. Austin: University of Texas.

—. 2001. Beowulf: A new verse translation. New York: W.W. Norton & Company.

—. 2008. The Vinland sagas. Londen: Penguin Classics.

—. 2009. The sagas of Ragnar Lodbrok. New Haven: The Troth.

—. 2010. The Nibelungenlied: The lay of the Nibelungs. Oxford: Oxford University Press.

—. 2020. Heilung react to incident at show: “We do not tolerate hate speech and racism.” https://www.brooklynvegan.com/heilung-react-to-show-incident-we-do-not-tolerate-hate-speech-and-racism (4 Januarie 2021 geraadpleeg).

Barnes, M.P. 2008. The Scandinavian languages in the Viking Age. In Brink en Price (reds.) 2008:274–80.

Bennett, L. en K. Wilkins. 2020. Viking tattoos of Instagram: Runes and contemporary identities. Convergence: The International Journal of Research into New Media Technologies, 26(5/6):1301–14.

Beuermann, I. 2011. The long adaptation of Pagan and Christian ideologies of rulership. In Steinsland e.a. (reds.) 2011:367–86.

Brink, S. en N. Price (reds.) 2008: The Viking world. Londen en New York: Routledge.

Brockell, G. 2019. The accused New Zealand shooter and an all-white Europe that never existed. https://www.washingtonpost.com/history/2019/03/16/accused-new-zealand-shooter-an-all-white-europe-that-never-existed (20 Januarie 2021 geraadpleeg).

Dijk, L. 2017. Ásatrú. An enchanting hybrid of past and present. MA-verhandeling, Universiteit van Ysland.

Downing, R. 2020. Hashtag heathens: Contemporary Germanic pagan feminine visuals on Instagram. Pomegranate. The International Journal of Pagan Studies, 21(2):186–209.

Faulkes, A. 2008. Snorri Sturluson: His life and work. In Brink en Price (reds.) 2008:311–4.

Forssling, G.E. 2020. Nordicism and modernity. Cham, Switserland: Springer International Publishing.

Gill, A.A. 2002. A.A. Gill is away. Londen: Cassell.

Gimbutas, M.A. 1999. The living goddesses. Berkeley: University of California Press.

Grammaticus, S. 2015a. Gesta Danorum: The history of the Danes Vol. 1. K. Friis-Jensen (red.). Oxford: Oxford University Press.

─. 2015b. Gesta Danorum: The history of the Danes Vol. 2. K. Friis-Jensen (red.). Oxford: Oxford University Press.

Granholm, K. 2011. “Sons of northern darkness”: Heathen influences in black metal and neofolk music. Numen, 58(4):514–44.

Gräslund, A.-S. 2008. The material culture of Old Norse religion. In Brink en Price (reds.) 2008:249–56.

Grönbech, V. 2010. The culture of the Teutons. Liberty, MO: Jotun’s Bane Kindred.

Gunstad, M.F. 2015. Rase og religion. Særtrekk ved Varg Vikernes’ ideologi sammenlignet med den klassiske nazismen. MA-verhandeling, Universiteit van Oslo.

Hannasvik, M.T. 2020. Spor av kristen religion i Den eldre Edda? ─ Voluspå som eksempel. BA-skripsie, VID vitenskapelige høgskole.

Hanssen, J.A. 2020. #paganmen. Iscenesettelse av maskulinitet hos nypaganistiske grupper. MA-verhandeling, Universiteit van Oslo.

Hedeager, L. 2008. Scandinavia before the Viking Age. In Brink en Price (reds.) 2008:11–22.

Hultgård, A. 2008. The religion of the Vikings. In Brink en Price (reds.) 2008:212–8.

Ichau, E., T. Frissen en L. d’Haenens. 2019. From #selfie to #edgy. Hashtag networks and images associated with the hashtag #jews on Instagram. Telematics and Informatics, 44:101275.

Jesch, J. 2008. Poetry in the Viking Age. In Brink en Price (reds.) 2008:291–8.

Kahn-Harris, K. 2007. Extreme metal: Music and culture on the edge. Oxford: Berg.

Kelley, K. 2021. Is “QAnon Shaman” from MAGA Capitol Riot covered in neo-Nazi imagery? https://www.rollingstone.com/culture/culture-features/qanon-shaman-maga-capitol-riot-rune-pagan-imagery-tattoo-1111344 (12 Januarie 2021 geraadpleeg).

Kieser, T. 2019. Al(t-Right) Father? Germanic neopaganism, Nordic nationalism, and modern reception of Old Norse religion and the Vikings. MA-verhandeling, Universiteit van Oslo.

Klitgaard, J.A.H. 2018. In search of askr Yggdrasill. A phenomenological approach to the role of trees in Old Nordic religions. MA-verhandeling, Félagsvísindasvið Háskóla Íslands.

Lönnroth, L. 1997. The Vikings in history and legend. In Sawyer (red.) 1997:225–49.

─. 2008. The Icelandic sagas. In Brink en Price (reds.) 2008:304–10.

Marais, C. 2014. Die neerslag van die Noorse mitologie in enkele Afrikaanse en Nederlandse letterkundige werke. MA-verhandeling, Universiteit van Johannesburg.

Murdoch, A. 2004. Germania Romana. In Murdoch en Read (reds.) 2004:55–72.

Murdoch, B. en M. Read. 2004. Introduction. In Murdoch en Read (reds.) 2004:1–24.

Murdoch, B. en M. Read (reds.). 2004: Early Germanic literature and culture. Rochester: Camden House.

Price, N. 2008a. Dying and the dead. In Brink en Price (reds.) 2008:257–73.

─. 2008b. Sorcery in Old Norse belief. In Brink en Price (reds.) 2008:244–8.

Raudvere, C. 2008. Popular religion in the Viking Age. In Brink en Price (reds.) 2008:235–43.

Robb, J. 2013. Wardruna – An in depth interview with brilliant Norwegian band with Viking roots music. https://louderthanwar.com/wardruna-an-interview-with-brilliant-norwegian-band-with-viking-roots-music-who-play-london-in-oct (11 Januarie 2021 geraadpleeg).

Roe, S. 2019. Against the modern world: NeoFolk and the authentic ritual experience. Literature & Aesthetics, 29(2):15–31.

Ross, M.C. 2008. The creation of Old Norse mythology. In Brink en Price (reds.) 2008:231–4.

Sawyer, P. (red.). 1997. The Oxford illustrated history of the Vikings. Oxford: Oxford University Press.

Schjødt, J.P. 2008. The Old Norse gods. In Brink en Price (reds.) 2008:219–22.

Senekal, B.A. 2020a. ’n Hond, ’n hottentotsgot en literêre prestige: Instagram as rolspeler in die Afrikaanse literêre sisteem. LitNet Akademies, 17(3):211–40.

—. 2020b. Instagram volksonomie as komplekse netwerke. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, 39(1):61–7.

—. 2020c. ’n Ontleding van drie Suid-Afrikaanse uitgewerye (NB-Uitgewers, Lapa Uitgewers en Protea Boekhuis) se Instagram-plasings. LitNet Akademies, 17(3):59–81.

Shaw, P. 2007. The origins of the theophoric week in the Germanic languages. Early Medieval Europe, 15(4):386–401.

Sheldon, R.M. 2001. Slaughter in the forest: Roman intelligence mistakes in Germany. Small Wars & Insurgencies, 12(3):1–38.

Simek, R. 2004. Germanic religion and the conversion to Christianity. In Murdoch en Read (reds.) 2004:73–102.

Sommer, T. 2020. Heilung: The must-see band of 2020 is The Flinstones in Hell https://rockandrollglobe.com/experimental/heilung-the-must-see-band-of-2020-is-the-flinstones-in-hell (4 Januarie 2021 geraadpleeg).

Sørensen, P.M. 1997. Religions old and new. In Sawyer (red.) 1997:202–24.

Steinsland, G., J.V. Sigurðsson, J.E. Rekdal en I. Beuermann (reds.). 2011. Ideology and power in the Viking and Middle Ages. Scandinavia, Iceland, Ireland, Orkney and the Faeroes. Leiden: Brill.

Sturluson, S. 1991. Heimskringla: History of the Kings of Norway. Austin: University of Texas Press.

—. 2012. The Uppsala Edda. Londen: Viking Society for Northern Research.

Szőke, V. 2018. The Norwegian rune poem in context: structure, style and imagery. L’Analisi Linguistica e Letteraria, 26(1):5–32.

Tacitus. 1999. Agricola and Germany. Oxford: Oxford University Press.

Teitelman, B. 2019. Folk-metal group Heilung talks second album “Futha”, soundtracking primetime TV and finding a new female energy. https://www.billboard.com/articles/columns/rock/8517649/heilung-futha-interview-vikings (4 Januarie 2021 geraadpleeg).

Unger, M.P. 2016. Sound, symbol, sociality: The aesthetic experience of extreme metal music. Londen: Palgrave Macmillan.

Von List, G. 1988. The secret of the runes. Rochester: Destiny Books.

Von Schnurbein, S. 2016. Norse revival: Transformations of Germanic neopaganism. Leiden: Brill.

Wells, P.S. 2004. The battle that stopped Rome: Emperor Augustus, Arminius, and the slaughter of the legions in the Teutoburg forest. New York: W.W. Norton & Company.

Zorzi, M. 2018. The grand fashion of Heilung & their iconic sound. https://newnoisemagazine.com/grand-fashion-heilung-iconic-sound (4 Januarie 2021 geraadpleeg).

 

Eindnotas

1 Die Viking-era word gewoonlik afgebaken tussen 793 en 1066 n.C., datums wat onderskeidelik na die aanval op Lindisfarne en die Slag van Stamford Bridge in Engeland verwys (Brink 2008:5). Tvauri (2012:18) merk op dat hierdie datums duidelik Brits-georiënteer is en Lund (1997:181) stel voor dat 1086 as die einde van hierdie tydperk geneem kan word. Die afbakening van die Viking-era sal afhang van perspektief, maar rofweg begin hierdie tydperk in die 8ste en eindig in die 11de eeu.

2 Tyr is herkenbaar in die Noorweegse en Deense Tirsdag, maar Simek (2004:82) en Shaw (2007:387) skryf dat daar etimologiese probleme daarmee bestaan om Tyr met die Nederlandse Dinsdag en Duitse Dienstag te verbind.

3 Vir meer inligting oor hierdie genre, sien Unger (2016), Kahn-Harris (2007) of Senekal (2011).

4 Die gereelde uitdrukking wat gebruik is, is: “=IFERROR(ARRAYFORMULA(TRIM(LOWER(SPLIT(REGEXREPLACE(Instagram!A2:A40000, "((^|\s)[^#]\S*)|([^#\w\s]\S*)", "")," ")))),""),” waar byskrifte in Kolom A op die spreivel Instagram is.

5 Die taal van byskrifte is herken met die Google Sheets-funksie: “=Detectlanguage(A2)”.

6 Woorde is getel met behulp van die volgende gereelde uitdrukking: “=IFERROR(IF(A2="","",COUNTA(SPLIT(A2," "))),"")”, waar die teks in sel A2 is.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Ou wyn in nuwe sakke: Die onlangse herlewing van die Germaanse kultuur op Instagram appeared first on LitNet.

Amerikaans-Chinese wedywering: ’n Sistemiese en teoretiese ontleding

$
0
0

Amerikaans-Chinese wedywering: ’n Sistemiese en teoretiese ontleding

Fanie Herman, Departement Politieke Studies en Regeerkunde, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 18(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Hierdie artikel bied ’n ontleding van die wedywering wat tussen Amerika en China plaasvind. Die hoofdoelwit is om die wedywering op ’n internasionale sistemiese vlak te verklaar deur gebruik te maak van perspektiewe uit die Amerikaanse administrasie se Nasionale Veiligheidstrategie (NVS). Die sekondêre doelwit is ’n ontleding van die teoretiese waarde van die wedywering aan die hand van insigte uit die studieveld van Internasionale Verhoudinge (IV). Derdens word gekyk na die implikasies van die doelwitte vir Afrika met spesifieke verwysing na China se skulddiplomasie en ander gebiede van interaksie. Samewerking vind ook plaas in Gordel-en-pad-inisiatief (GPI)-projekte. Dit word as ’n positiewe aspek uitgelig. Amerika voer aan dat China as ’n mededinger in plaas van ’n vennoot gesien word. China se internasionale ekonomiese en politieke invloed het in die laaste dekades teen ’n geweldige tempo gegroei en word deur die Amerikaanse administrasie beskou as die opkoms van hernude geopolitieke wedywering. Om dié rede het Amerika nodig om sy rol in die wêreld weer na waarde te skat en dit word gedoen op grond van beleid en strategiese voorstelle in die NVS. Die huidige NVS word as primêre bron gebruik, terwyl ander bronne wat die wedywering ontleed as sekondêre bronne gebruik word. Die veiligheidstrategie verwys ook na wedywering in Afrika en die doelwitte wat geformuleer is om Amerikaanse invloed te laat geld.

Die Prosper Africa-inisiatief (PAI) is ’n hoofdoelstelling van die Amerikaanse regering en poog om ekonomiese en handelsbetrekkinge te bevorder. China se ekonomiese diplomasie is ook die hoofaandrywer van sy verhoudinge met Afrikalande. Tydens die laaste twee vergaderings van die Forum vir China-Afrika-samewerking het China byvoorbeeld 60 biljoen Amerikaanse dollar aan Afrikalande beskikbaar gestel. Die ontwikkeling wat befonds word, wissel van infrastruktuur tot nywerhede, landbou, handel, omgewingsbewaring, gesondheid, onderwys en vrede en veiligheid.

Van die bevindinge van hierdie artikel is dat wedywering ’n bedreiging vir veiligheid inhou; onder andere, Amerika se vermoë om militêre teenwoordigheid te handhaaf en skulddiplomasie wat Amerikaanse maatskappye ontneem van mededingende voordeel. Die wedywering skep nuwe ekonomiese modelle gebaseer op streekshandelsgroeperings wat kan lei tot deglobalisasie en ’n nuwe internasionale politieke orde: aan die een kant die oorheersende invloed van Amerikaanse waardes en norme en aan die ander kant die opkoms van ’n nuwe Chinees-gesentreerde wêreldorde.

Trefwoorde: Amerika se Afrikastrategie; China se internasionale ambisies; grootmoondheidwedywering en die teorie van internasionale verhoudinge; Nasionale Veiligheidstrategie (NVS) van Amerika; Sino-Amerikaanse wedywering; sistemiese en teoretiese ontleding

 

Abstract

American-Chinese competition: A systemic and theoretical analysis

This article provides an analysis of the competition that takes place between America and China. The study is divided into three main objectives. The first objective is to analyse the competition on an international, systemic level by using perspectives from the American National Security Strategy (NSS). The second objective is to use insights from the field of International Relations (IR) to provide a theoretical analysis and the third objective is to examine the implications of the competition for Africa.

After slightly longer than two decades of geopolitical tensions and competition between Washington and Beijing, the American administration has declared China a revisionist state. China’s goal is to challenge and undermine America’s influence in strategic areas of the world. In order to retain its superpower status, America needs to re-evaluate its current role in world politics. Perspectives from the NSS are used to analyse this competition because the document outlines America’s international goals and interests. It further provides direction for agencies to approach the international political and strategic environment in a secure manner. America approached China as an economic partner during previous administrations; however, reforms in China’s foreign policies, the joining of international organisations, economic growth and military modernisation changed the approach from partner to competitor. America views China’s hegemonic ambitions as a threat and has to implement strategies and policies to counter this threat.

The NSS argues that it is in the interest of America to maintain the liberal international order through projecting power and promoting strong diplomatic relations. The document further highlights that coordinated action between America and its allies could expose the true intentions of China. In a further step, America should disconnect its economy from China to protect its defence capabilities rather than maintain global trade networks. China undermines the international economic order through the pursuit of regional trade groupings, for example Brazil, Russia, India, China and South Africa (BRICS), special economic zones in Southeast Asia and the Belt and Road Initiative (BRI).

America has strategic, economic, political, and humanitarian interests in Africa. Knowledge and awareness of Africa is essential for formulating a policy that can protect and advance strategic and security goals. In view of this, the American administration has formulated an African policy. This policy aims to maintain and strengthen ties with African countries and focuses on three main areas: first, improving trade and commercial ties, second, combating terrorist threats and Islamic extremism, and third, using American dollars for investments and economic opportunities. On the other hand, China is also actively engaged on the African continent and pursues goals that are largely in conflict with those of America. China’s defence strategy emphasises America’s smaller focus on combating terrorism and extremism and greater focus on possible conflict with China and Russia. In Africa, China has built the Djibouti military base and signed strategic partnerships with a host of African countries.

The economic and military rise of China poses a threat to America and impacts the shift of power in the international system. This shift is evident in both countries’ ambitions to become the dominant world power and secure their international interests. The American military is still used as a force to create stability and security in conflict areas, for example fighting terrorism and Muslim extremism, rather than promoting American interests and values. This is in contrast to the Chinese method of using economic means, for example the BRI, to first gain influence and then establish economic dominance in countries along the routes.

International technological leadership is a major field of competition between the two countries and rooted in the pursuit of market dominance. Technological competition is a quest for security and aims to establish geopolitical influence in countries where citizens depend on digital products and services provided by either America or China. In this regard, the development and use of technology is increasingly connected to the politics and ideology of the superpower. Technological competition becomes part of a system that opposes or accepts the political order: the relationship between state and community, and between government and citizens.

America with its liberal, democratic system and China with its authoritarian, communist regime show that the political/ideological dimension is a significant factor in the competition. The Chinese government declared technological development as a national asset under the leadership of President Xi Jinping. This means that technological security is placed in the same domain as national security. The “Made in China 2025 Policy” is a manifestation of the importance China attaches to technological development. Businesses are encouraged to develop local technologies in order to reduce dependency on foreign markets.

Power as a concept in IR theory plays an important role in this competition. The modern discourse of power refers to the economic and military capabilities of states. Both countries have the means to exercise international economic and military influence. In Africa, power is used to manage and mobilise resources for strategic outcomes. For example, China’s economic diplomacy is an important instrument in infrastructure development and the BRI, while America’s African Command Center (AFRICOM) is an instrument to combat extremism and the training of local armies. States that have the ability to utilise and change between military, economic and cultural power on an international scale are considered superpowers.

The NSS adopts principled realism as its main theoretical argument. This is because realism recognises the central role of power in international politics, confirms that sovereign states are the best hope for peace in the world, and spells out the national security goals of America in clear terms. An important aspect of the NSS is America’s ability to strategically compete with China. China’s military power currently does not equate to that of America but could overtake American defence spending in the next few years. Although the document theoretically departs from realism, concepts of constructivism are also used. This is seen in the promotion of cultural interaction, the sharing of ideas, interests and identity. Liberalism is rejected because regional and international organisations' collective nature undermines America’s dominant position and dictation of rules.

The development of a Chinese IR theory can explain the country’s views on international relations and what approaches to follow in managing relations with America. Of particular importance is China’s views on the international order. The liberal international order created by America is rejected because it is viewed as a threat to the communist ideology and the continuity of the one-party state. Chinese scholars also use realism to explain power competition with America. The two countries observe the international system and security through different lenses, which leads to different interpretations of each other’s ambitions and intentions. A difference in the economic and political policy agendas of the two countries is used as a last approach.

The American administration’s decision to downsize its African involvement gives China more opportunities to enter the African marketplace and increase military engagement. China is achieving great success with its economic diplomacy and other forms of soft power, for example cultural and public diplomacy. In addition, China will continue to promote cooperation with African countries under the BRI. From the American point of view, the Prosper Africa Initiative holds great promise to increase American-African trade and strengthen bilateral economic relationships. America has the ability to retain a competitive advantage over China if all the instruments of national power is used.

Finally, American-Chinese competition is growing from regional to international conflict. This competition for influence is particularly noticeable in the ideological differences between the two countries and international leadership in technology. The competition is stronger from the American administration. Both countries are also engaged in a battle for international military dominance, which affects international security. The strategic competition creates new models based on regional trade groupings which can lead to deglobalisation and a new international economic and political order: on the one side the current American liberal international order and on the other side the establishment of a China-centred international system.

Keywords: America’s African strategy; American-Chinese competition; China’s international ambitions; great power competition and international relations theory; National Security Strategy (NSS) of America; systemic and theoretical analysis

 

1. Inleiding

Die NVS word sedert 1987 deur Amerikaanse administrasies gepubliseer as die primêre bron wat die veiligheid en welvaart van Amerika uitspel. Die waarde van die NVS is daarin geleë dat dit Amerika se internasionale doelwitte en belange bekendstel en rigting aan agentskappe verskaf om die internasionale politieke terrein op ’n veilige manier te benader. Die oorhoofse doel van die strategie is om Amerika veiliger vir sy burgers te maak, politieke en ekonomiese vryheid te verseker, vreedsame verhoudinge met ander lande te sluit en respek en waardigheid onder alle mense te bevorder (trumpwhitehouse.archives.gov.2017). Rusland en China reik soortgelyke dokumente uit om hulle internasionale veiligheidsdoelwitte bekend te stel. Die skepping van ’n veilige internasionale politieke en ekonomiese omgewing is die hoofoorweging en dit sluit aan by die NVS van Amerika.

Na effens langer as twee dekades van geopolitieke spanning en agterdog tussen Washington en Beijing, het die Amerikaanse administrasie verklaar dat China ’n revisionistiese mag is. Die doel is om Amerika se invloed in strategiese gebiede van die wêreld uit te daag en te ondermyn (trumpwhitehouse.archives.gov.2017). Die gevoel onder Amerikaanse regeringsamptenare in die laaste helfte van die 20ste eeu was dat China as ’n ekonomiese vennoot benader moes word om samewerking te bevorder. China se toetrede tot die internasionale ekonomiese en politieke terrein en die land se strewe om met ander lande saam te werk, het as motivering gedien.

Amerika was bereidwillig om China te help in sy strewe na grootmoondheidstatus. Die transformasie van vennoot na strategiese mededinger het sy oorsprong min of meer in die begin van die 21ste eeu gehad. Redes vir die verandering in beleid was China se toelating tot die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), die ekonomiese oplewing in die land wat sy uitvoere aansienlik versterk het en die strewe na militêre modernisasie. Wat opval, is dat die hegemoniese strewes van China deur Amerika as ’n bedreiging begin sien is. Vandaar ook die veelvuldige verwysings in die akademiese omgewing en media na die Chinesebedreigingsteorie (“China Threat Theory”) (dod.defense.gov.2018).

Die Bush- en Obama-administrasies was bewus van die opkoms van China as ’n grootmoondheid, maar het gepoog om sterker en versigtiger verhoudinge met China te sluit, byvoorbeeld president Bush se versoeningsbeleid en Obama se Asië- herbalanseringstrategie (trumpwhitehouse.archives.gov.2017). Bogenoemde beleidsrigtings was as primêre bronne in die NVS’e van presidente Bush en Obama opgeteken. In die geval van Bush is bogenoemde beleid in die NVS van 2006 afgekondig, en in die geval van Obama in die NVS van 2015. Ten opsigte van Afrika, het die Bush- en Obama-administrasie sterk klem gelê op die bekamping van terrorisme, die uitwissing van Moslem-ekstremisme, die beveiliging van Amerika se olie-invoere en humanitêre hulpverlening.

Met China se aggressiewe toetrede tot Afrika, twee dekades gelede, het die land begin om sterk vennootskappe met Afrikalande te sluit. Dit het Amerika se mededingende voordeel geknou. Amerika het wel in die laaste dekades verskeie programme en aanvoorwerk van stapel gestuur om Afrika ekonomies by te staan, maar dit word oorskadu deur China se gebruik van ekonomiese diplomasie, sagte mag en toenemende militêre teenwoordigheid (Tellis, Szalwinski en Wills 2020:5–7). China gebruik byvoorbeeld die GPI om infrastruktuur in Afrika op te rig vir die bevordering van besigheid en handel. Verder ondersteun die GPI China se pogings om omvattender ekonomiese verhoudinge met Afrikalande aan te knoop. Massiewe hulpbronne word beskikbaar gestel om die GPI ’n aandrywer van ekonomiese groei te maak, insluitende miljoene Amerikaanse dollar vir beleggings in die projekte en die verskaffing van werksgeleenthede aan plaaslike werkers (Enderwick 2018:447–50).

Met die globale pandemie het die fokus verskuif na die verbetering van interpersoonlike verhoudinge tussen Afrikane en Chinese, die uitruil van kennis en solidariteit met die Chinese manier van regering en die skep van ’n nuwe stel internasionale norme en standaarde. Aan die ander kant is daar ook geopolitieke oorwegings, soos byvoorbeeld die rol wat die GPI speel in die beveiliging van roetes en beheer van die besigheids- en politieke landskap. Verder is die Chinese weermag nou aktief in Afrika betrokke en dit wissel van die ontplooiing in vredesendings tot die beskerming van Chinese fasiliteite en toerusting. China se militêre basis in Djiboeti is onder andere gebou om as logistieke en ondersteuningsbasis vir Chinese troepe op die vasteland te dien. Volgens kundiges gaan die Chinese weermag ’n groter rol speel in die toekomstige beveiliging van Chinese belange op die kontinent (Flint en Zhang 2016:5–8).

Figuur 1. Volledige kaart van die GPI-roetes (Bron)

Die NVS voer aan dat dit in die belang van Amerika is om die liberale internasionale orde te handhaaf deur middel van magprojektering en die bevordering van sterk diplomatieke verhoudinge. Die dokument lig verder uit dat gekoördineerde optrede tussen Amerika en sy bondgenote die wanpraktyke van China aan die kaak kan stel. In ’n verdere stap behoort Amerika sy ekonomie van China te ontkoppel. Dit is hoofsaaklik om sy verdedigingsvermoëns te beskerm eerder as om globale handelsnetwerke in stand te hou, wat in elk geval ondermyn word deur Beijing se strewe na die oprigting van streekshandelsgroeperinge, byvoorbeeld Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika (BRICS), spesiale ekonomiese sones in Suidoos-Asië en Afrika en die GPI (Tellis e.a. 2020:4).

’n Vergelykende verklaring van Amerika en China se Nasionale Veiligheidstrategieë is nodig om die wedywering in konteks te plaas. Die volgende deel kyk kortliks na China se 2019-Witskrif oor Verdediging wat ’n direkte antwoord op Amerika se NVS van 2017 is. Die dokument is die primêre bron van die Chinese regering wat China se internasionale veiligheidsposisie evalueer. Die huidige dokument beklemtoon die kleiner fokus van Amerika op die bekamping van terrorisme en ekstremisme en die groter fokus op moontlike konflik met China en Rusland. Dit beklemtoon die feit dat Amerika en China nou wedywer vir grootmoondheidstatus en dat China Amerika se militêre gesag uitdaag (The State Council Information Office of the People’s Republic of China 2019).

China beskou Amerika as ’n internasionale, strategiese mededinger. Amerika het sy nasionale veiligheids- en verdedigingsbeleid aangepas om voorsiening te maak vir wedywering. Van die stappe wat Amerika geneem het, is: die uitlokking van wedywering tussen ontwikkelde lande, ’n verhoging in die verdedigingsbegroting en die voorsiening van addisionele hulpbronne in kern-, ruimte-, kuber- en missielverdediging. Die witskrif stel dit dat die modernisasie en uitbreiding van die Chinese weermag in ooreenstemming met die doelwitte van ander ontwikkelde weermagte van die wêreld is. Die oogmerk is vrede en harmonie met ander lande van die wêreld en nie militêre of ekonomiese oorheersing nie.

Die witskrif lê nuwe klem op die Chinese vloot se gevegsgereedheid en opleiding en sê dat hulle binnekort gereed gaan wees om Amerikaanse aggressie in die Suid-China See en Stille Oseaan teen te staan. Die witskrif kyk ook na ander gebiede van die wêreld. Dit dui byvoorbeeld aan dat die Chinese weermag ’n belangrike taak vervul om China se oorsese belange te beskerm. In Afrika is die logistieke en ondersteuningsbasis in Djiboeti gebou om Chinese soldate in die omgewing van die horing van Afrika, die Golf van Aden en Yemen te ontplooi. China het gas- en oliebelange in die streek. Die witskrif is meer gematig as die Amerikaanse dokument en sien die bevordering van militêre verhoudinge met Amerika as deurslaggewend om internasionale vrede en stabiliteit te handhaaf. Die verhoudinge word geëvalueer in terme van die beginsels van nie-konflik, nie-konfrontasie, wedersydse respek en wen-wen-samewerking. Ten slotte identifiseer die witskrif Amerika egter as ’n strategiese mededinger (The State Council Information Office of the People’s Republic of China 2019).

Die struktuur van die artikel sien soos volg daar uit:

  1. Afdeling twee bespreek die kerngebiede van die NVS en hoe dit op die wedywering tussen Amerika en China van toepassing is. Die Amerikaanse administrasie se Afrikabeleid, die PAI en invloed op streeksorganisasies word ook in die afdeling behandel. Kenners van China se internasionale verhoudinge het in die laaste aantal jare begin om ’n Hoofstrategie (“Grand Strategy”) vir die land te formuleer. Dit sluit China se internasionale politieke, ekonomiese en militêre doelwitte in. Die kernaspekte van die strategie in terme van samewerking en konflik met Amerika word in dié afdeling ontleed.
  2. Afdeling drie is die sentrale tema van die artikel en ontleed magswedywering in die konteks van sistemiese en internasionale veiligheidsfaktore. China se skulddiplomasie en die impak van die GPI op Amerikaanse maatskappye werksaam in Afrika word as twee gevallestudies aangebied.
  3. Afdeling vier bied teoretiese insigte uit die veld van IV om ontledingswaarde aan die artikel toe te voeg. Eerstens word ’n tipologie van mag opgestel met ’n vergelykende ontleding wat volg. Voorbeelde wat die magswedywering tussen Amerika en China kenmerk, word genoem. Tweedens word die Amerikaanse administrasie se veiligheidsdoelwitte aan die hand van IV-teorieë verklaar en laastens word ’n teoretiese waardebepaling van China se sieninge oor IV-teorie gegee. Die aandrywers van strategiese wedywering met Amerika is die kern van die laaste deel.
  4. Die gevolgtrekking dui aan dat Amerika se besluit om sy aktiwiteite in Afrika af te skaal, die deur vir China oopmaak om voort te gaan met sy besigheidspraktyke. Aan die ander kant hou die PAI belofte in en kan Amerika weer ’n belangrike rolspeler op die Afrikakontinent raak. Die hoofdoelwit is om die magsvertoon van China teen te staan en dit kan bereik word deur terug te keer na strategiese magspel en die gebruik van al die instrumente van nasionale mag.

 

2. Die huidige NVS

Die administrasie se nasionale strategie fokus daarop om die Amerikaanse hartland te beskerm, welvaart te skep, vrede na te streef en internasionale invloed uit te brei. Gesien in die lig van Afrika se groeiende belangrikheid in ’n intergekonnekteerde wêreld, is dit wys vir Amerika om sterker na vore te tree om sy ekonomiese, veiligheids- en ander belange te beskerm. Volgens die leerskool van realisme in IV, word nasionale belange bepaal deur die hoeveelheid mag wat ’n staat besit. Mag is ’n dinamiese konsep en beklemtoon die feit dat state gemotiveer word deur eiebelang en nie morele en etiese strewes nie. Die menslike element speel ’n minder belangrike rol om die internasionale gedrag van lande te verklaar (Morgenthau 2005:10). Henry Kissinger, ’n voorste kenner van die leerskool van realisme, verklaar dat die veiligheid van ’n land bepaal word deur die sterkte van die land se nasionale belange (Kissinger 1995:182). Nasionale veiligheid is die vermoë van die land om sy ekonomiese verhoudinge met die res van die wêreld te handhaaf en om sy instellings, wyse van regering en internasionale aansien, sonder ontwrigting deur buitelandse inmenging, te beskerm (Wolfers 2014:27).

2.1 Kerngebiede van die NVS

Die sentrale argument van die NVS fokus op die verhoogde wedywering wat tussen lande en veral grootmoondhede in die wêreld plaasvind. Die dokument voer aan dat Amerika homself moet voorberei vir wedywering in gunstige en ongunstige situasies. Die dokument fokus op vier pilare (gebiede van nasionale belang): eerstens, die beskerming van Amerikaanse territoriale gebiede deur soewereiniteit en lewenstandaarde te handhaaf; tweedens, die bevordering van die land se welvaart deur sterk ekonomiese programme en aansporingsmeganismes in te stel; derdens, die strewe na vrede en goeie regering deur diplomatieke kanale en vierdens, die bevordering van Amerikaanse invloed deur sosiale en kulturele interaksies met ander lande (brookings.edu.2017). Die vier pilare word gekenmerk deur oorsaak-en-gevolg-verhoudinge en is nie daarop ingestel om verhoudinge met ander lande af te skeep nie; dit slaan ’n nuwe rigting van beginselvaste realisme in wat gedryf word deur resultate en nie ideologie nie (Mc Innis 2017). Die leerstelling spruit voort uit die oortuiging dat ’n sterk plaaslike ekonomie noodsaaklik is om Amerika se magsposisie in die wêreld te verbeter. Slegs met ’n stewige ekonomie en veiligheid by die huis kan vrede deur mag en Amerikaanse belange in die wêreld nagestreef word (wsj.com.2017).

Die inleiding van die NVS noem dat wedywering tussen grootmoondhede aan die toeneem is. Amerika se huidige bondgenote word nie eens genoem as strategiese vennote nie. Dit is ’n wêreld waarin China en Rusland Amerikaanse mag uitdaag en die besluit is geneem om verhoudings met mededingers te hersien, of dit nou voordelig is of nie (brookings.edu.2017). Die NVS lig uit dat grootmoondheidwedywering sy hoogste vlak in 20 jaar bereik het en dat Amerika voorbereid moet wees om sy belange te beskerm. Die veronderstelling is dat wedywering in goeie gees en sonder uittarting plaasvind, alhoewel dit nie altyd moontlik is nie.

Amerika sal politieke, ekonomiese en militêre mag gebruik om te verseker dat die wêreld nie deur een grootmoondheid oorheers word nie (Mc Innis 2017). Aan die ander kant impliseer wedywering nie altyd vyandigheid en konflik nie. Deur ferm en met vertroue op te tree kan wedywering effektief bestuur word en dit sal lei tot vrede en samewerking. In die NVS word na die wêreld verwys as ’n konglomerasie van state, nie-regeringsorganisasies en besighede wat wedywer vir voordeel. Dit is nie die globale gemeenskap wat deur liberalisme in IV voorgehou word nie (McMaster en Cohn 2017). Die NVS beklemtoon dat China en Rusland ’n ernstige bedreiging vir Amerika inhou. Alhoewel verhoudinge met die twee lande problematies is, wil beleidsmakers graag ’n balans tussen samewerking en wedywering skep (McMaster en Cohn 2017). Beide die lande word as revisionistiese moondhede gesien wat die mag, invloed en belange van Amerika uitdaag.

Waarnemers van IV onderskei tussen revisionistiese en status quo-state. Revisionistiese state wil graag veranderinge in die heersende internasionale orde sien: veranderinge van reëls en norme, die verdeling van goedere en voordele, die struktuur of hiërargie, status en reputasie, en die verdeling van grondgebied tussen soewereine entiteite. Aan die ander kant wil status quo-state die heersende internasionale orde en verdeling van mag behou. ’n Ontleding van state as revisionisties of status quo kan belangrike uitkomste in die internasionale politiek verklaar, soos byvoorbeeld oorlog en vrede (Collins 2010).

Wat is Amerika se posisie? Die heersende internasionale politieke en ekonomiese orde is grootliks die resultaat van Amerikaanse invloed en mag wat in die tydperk na die Tweede Wêreldoorlog tot stand gekom het. As voorbeelde kan gekyk word na internasionale organisasies soos die Verenigde Nasies (VN), die Wêreldbank, die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) en ’n veiligheidsorganisasie soos die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO). Die organisasies is met Amerikaanse kennis en leierskap ontwikkel en Amerikaanse administrasies wil die status quo behou. Aan die ander kant, is China ’n voorbeeld van ’n revisionistiese staat as gevolg van die uitbreiding van sy mag en invloed en pogings om die internasionale politieke en ekonomiese orde te verander.

In samehang met die NVS identifiseer Amerika se Nasionale Verdedigingstrategie van 2018 China en Rusland ook as revisionistiese state. Die dokument wys pertinent daarop dat China poog om die militêre magsbalans in sy guns te swaai, wat die land ’n sterk aanspraakmaker as revisionistiese moondheid maak (defense.gov.2018). Verder is die skep van welvaart die sentrale uitdaging vir die Amerikaanse administrasie. Van belang is dat beide dokumente inter-strategiese wedywering en nie terrorisme nie as die hoofbedreiging vir Amerikaanse veiligheid sien (defense.gov.2018). John Mearsheimer, ’n kenner op die gebied van offensiewe realisme in IV, voer aan dat China se ekonomiese mag in die toekoms na militêre mag gaan oorslaan. Strategiese wedywering vir seeroetes, bondgenote, militêre basisse en natuurlike hulpbronne gaan simptomaties van die konflik tussen die twee moondhede word. Indien China se ekonomiese en militêre magswedywering voortduur, stuur die wêreld op hernieude grootmoondheidkonflik af, soos gedurende die Koue Oorlog (Dobell 2018).

Wat is China se posisie? Onder die leierskap van president Xi Jinping openbaar China meer selfgeldende gedrag in die internasionale politiek. Ten opsigte van revisionisme is die doelwit om leierskapsposisies van internasionale liggame oor te neem en die reëls en norme van die organisasies volgens Chinese standaarde aan te pas. Voorbeelde is hervorming in die VN, beheer van die Wêreldgesondheidorganisasie (WGO) en groter seggenskap in die IMF. Verder is die GPI China se vlagskip- ekonomiese projek en die aandrywer van sy buitelandse beleid (Wilson 2019). President Xi het herhaaldelik verklaar dat die totstandkoming van China as ’n kragtige en invloedryke internasionale rolspeler die hoofdoelwit van die Chinese Kommunistiese Party (CKP) is (Clarke 2020). Die doelwit kan bereik word indien China sy internasionale mag uitbrei om sodoende die grondslag te lê vir wedywering met ander moondhede. China daag Amerika veral uit op die gebiede van militêre en ekonomiese oorheersing (Clarke 2020).

Die rol wat internasionale instellings speel om samewerking te bevorder word erken, alhoewel die fokus ook op die versterking van bilaterale verhoudinge is (McMaster en Cohn 2017). Wedywering in plaas van samewerking beteken nie dat Amerika internasionale veiligheid afskeep nie. Die land is nog steeds betrokke by vele internasionale veiligheidskwessies, byvoorbeeld die teenwoordigheid van die Amerikaanse vloot in die Suid-China See om vryheid van seevaart te bevorder, en militêre teenwoordigheid in Afghanistan en die Midde-Ooste (wsj.com.2017).

2.1.1 Ekonomiese veiligheid is nasionale veiligheid

Amerika streef daarna om vrye en regverdige ekonomiese verhoudinge met lande in die wêreld te sluit. Washington is egter gekant teen die oprigting van streekshandelsgroeperings, omrede dit hulpbronne herlei en Amerika in die proses verswak. Die administrasie se beëindiging van lidmaatskap in die Trans-Pacific Partnership (TPP) was ’n gevolg van China se herleiding van hulpbronne in die streek. Die herleiding van hulpbronne het Amerika se posisie verswak (Stone 2018). Die NVS lig uit dat lande wat dieselfde waardes en ekonomiese beginsels met Amerika deel, voorkeurbehandeling sal geniet in die opstel van ooreenkomste en ander ekonomiese bepalings (Coats 2018).

2.1.2 Vrede deur krag

Vier aspekte is hier ter sprake: eerstens, die beskerming van Amerikaanse territoriale gebiede deur soewereiniteit en lewenstandaarde te handhaaf; tweedens, die bevordering van die land se welvaart deur sterk ekonomiese programme en aansporingsmeganismes in te stel; derdens, die strewe na vrede en goeie regering deur diplomatieke kanale en vierdens, die bevordering van Amerikaanse invloed deur sosiale en kulturele interaksies met ander lande (brookings.edu.2017). Vrede sal bewaar word deur die krag en rekonstruksie van die weermag, sodat dit voortreflik, defensief en gereed sal wees om ’n oorlog te voer. Gedurende die Koue Oorlog was die Amerikaanse weermag oorheersend ten opsigte van magsvertoon en operasionele vermoëns. In die laaste aantal jare is daar egter geopolitieke uitdagings en strawwe wedywering deur ander grootmoondhede, wat ’n groot finansiële las op die begroting van die weermag plaas. Ten spyte hiervan, bly die Amerikaanse weermag nog steeds die wêreld se militêre leier (dod.defense.gov. 2018). Nog ’n bron van kommer vir die weermag is sy onvermoë om strategiese besluite te neem. Dit ondermyn Washington se invloed met vennote, skep wantroue, verswak die afskrikkingseffek van kernwapens en lok teenstanders uit om te dink dat aggressie ’n suksesvolle teenvoeter vir Amerikaanse militêre vermoëns is. Hulle mag ook dink dat Amerika nie in staat sal wees om teenaanvalle te loods nie (dod.defense.gov.2018).

Die NVS gee nie antwoorde vir die strategiese stagnasie van Amerika nie. Die dokument misluk ook om strategieë vir verskillende dele van die wêreld te implementeer. Moskou en Beijing se aksies en doelwitte word byvoorbeeld in dieselfde kategorie geplaas en daar word nie erken dat uiteenlopende verskille in die twee lande se beleidsrigtings bestaan nie. Opeenvolgende administrasies het dit moeilik gevind om ’n balans tussen ekonomiese samewerking en militêre wedywering te vind. Dit word gemeet aan die hand van China en Rusland se toenemende selfgeldende gedrag in die laaste aantal jare (worldcat.org.2018). Transnasionale en kriminele bedreigings, insluitende terrorisme, volg in ’n derde kategorie. Amerika sal aanhou om terrorisme te beveg en oplossings vir nie-tradisionele en transnasionale veiligheidsvraagstukke te vind (worldcat.org.2018).

2.1.3 Militêre vermoëns

Die militêre strategie fokus op die modernisasie van die Amerikaanse gewapende magte, ’n toename in grootte, ’n verbetering in vermoëns en algemene voorbereiding om die bogenoemde bedreigings die hoof te bied. Rusland en China maak aansienlike vordering op militêre gebied en om dié rede moet Amerika poog om ’n balans tussen ’n hoë-intensiteitoorlog met Rusland en/of China aan die een kant, en ’n lae-intensiteitkonflik wat gebruik maak van tegnologie aan die ander kant, te vind (Spoehr 2020).

2.1.4 Die bevordering van belange en waardes

Die uitbouing van Amerikaanse invloed in die wêreld sal die land veiliger en welvarender maak. Daar is verskeie verwysings in die vierde pilaar na belange en waardes, ondersteuning vir demokrasie, die beskerming van menseregte en hulpverlening aan kwesbare state (Lee 2018). Ronald Reagan se NVS het gefokus op Amerika se strewe na vryheid en welvaart, terwyl George W. Bush en Barack Obama se NVS’e gefokus het op Amerika se verbintenis om menswaardigheid te beskerm en die beginsels van demokrasie te handhaaf. Die Trump-administrasie voer egter aan dat die vernietiging van Jihad-terrorisme die beste meganisme is om menseregte te eerbiedig en demokrasie te bevorder (cfr.org.2018).

Ten spyte van die kleiner fokus op multilateralisme, bly dit steeds ’n doelwit van die regering om leierskapsposisies in internasionale organisasies te beklee. Aan die een kant is Amerikaanse leierskap voordelig vir internasionale gespreksvoering en aan die ander kant is leierskap nodig om belange te beskerm. Amerika sal om dié rede nie afstand van sy leierskap in internasionale organisasies doen nie, want dit sal ander moondhede in staat stel om voordeel daaruit te trek. Verder is dit belangrik dat Amerika invloed in die organisasies uitoefen om samewerking met ander lande te verkry (Haifa 2017). Hierdie pilaar onderstreep die belangrikheid van strategiese vennootskappe. Die regering reik ook uit na “nuwe” lande wat belangstel om verhoudinge met Amerika te sluit. Dit sluit lande in wat as gevolg van ekonomiese, politieke en veiligheidsredes kwesbaar is. Vir hierdie doel, onderneem Amerika om sy model van ekonomiese ontwikkeling aan die lande bekend te stel. Die model beweeg weg van finansiële hulpverlening na ’n model wat private beleggings aanmoedig en verder spoor dit die lande aan om ekonomies onafhanklik te raak. Ontwikkelingshulp sal op ’n voorkeurbasis aan lande gegee word wat Amerikaanse waardes en ekonomiese beginsels ondersteun (Haifa 2017).

2.2 China se houding teenoor Amerika

Na afloop van die Koue Oorlog het Amerika die wêreld se enigste grootmoonheid geword. Om dié rede het China sy buitelandse beleidsraamwerk verander om voorsiening te maak vir omvattender verhoudinge met Amerika. Die beleid moes aangepas word om ekonomiese samewerking en vennootskappe in ag te neem. Waarop die Chinese leiers baie sterk klem gelê het, was die beginsel van nie-inmenging in ander lande se huishoudelike sake. Die hoop was dat Amerika die beginsel sou respekteer en China toelaat om hulle eie plaaslike kwessies op te los. Dit het nie gebeur nie omdat Amerika voortgegaan het om wapens aan Taiwan te verkoop en ’n vlootteenwoordigheid in die Suid-China See te handhaaf (Ju 2015:87–90). Dit was die begin van die hedendaagse konflik tussen die twee lande wat nou op vele terreine van die internasionale sisteem funksioneer.

Kenners van China se internasionale verhoudinge is dit eens dat die land sy verhoudinge met Amerika moet verbeter. Die aangewese roete vir China om te volg is die uitbreiding van samewerking op gebiede van wedersydse belang en ’n aanvaarding dat die verhouding deur konflik en samewerking gekenmerk gaan word. Belangrik vir China is om Amerika nie op sy eie inisiatief te konfronteer nie. Indien Amerika wel tot mag of aggressie oorgaan, moet China gereed wees om die aksies teen te staan. Selfs al is Amerika verantwoordelik vir ’n afswaai in verhoudings, behoort China selfbeheersing toe te pas en te soek na geleenthede om die situasie te verbeter. China sal nooit ’n afdwinging van Amerikaanse gesag aanvaar nie en verwag dat Amerika China se opkomende rol in die wêreld respekteer (Men 2020:5–10).

 2.3 Die Amerikaanse administrasie se Afrikabeleid

Amerika het geostrategiese, ekonomiese, politieke en humanitêre belange in Afrika. Kennis en bewustheid van Afrika is essensieel vir die formulering van ’n beleid wat die strategiese en veiligheidsdoelwitte van Amerika kan beskerm en bevorder. China is aktief betrokke op die Afrikakontinent en streef doelwitte na wat grootliks in konflik met dié van Amerika is. Dit is noodsaaklik vir Amerika om al sy instrumente van nasionale mag te gebruik om sy betrokkenheid in Afrika te handhaaf en uit te brei. Die risiko bestaan reeds dat sy belange bedreig en militêre en veiligheidsdoelwitte nie bereik word nie (Steinbock 2019).

Die Afrikabeleid fokus op drie kernpunte. Die hoofdoelwit is om Amerikaanse belange op die kontinent te bevorder deur die regte besluite te neem, die regte beleid te formuleer en beleggings reg aan te wend (Stone 2018). Eerstens gaan handel en kommersiële bande bevorder word tot wedersydse voordeel vir Afrika en Amerika. Amerika wil hê sy ekonomiese vennote moet floreer en hulle eie toekoms bepaal. Ekonomiese onderhandelinge moet gebaseer wees op wedersydse begrip en samewerking en nooit op onderdanigheid nie (Stone 2018).

Tweedens moet die bedreiging wat radikale Islamitiese terroristegroepe en gewelddadige konflik inhou, aangespreek word. Die Islamitiese Staat van Irak en Sirië (ISIS), Al-Qaeda en affiliate is almal nog aktief en beplan aanvalle op Amerikaanse burgers en teikens (Steinbock 2019). Derdens sal die administrasie seker maak dat Amerikaanse dollars vir die regte doelwitte aangewend word. Die doel is om prioriteite te identifiseer en geld daarvoor aan te wend. Die administrasie het ook besluit om vredesendingsoperasies wat onproduktief en onsuksesvol is, nie meer te ondersteun nie. Die doel met die nuwe ekonomiese beleidsrigting is om waarde vir Amerikaanse dollar te wys vir projekte en beleggings wat in Afrika aangepak word (Paquette 2019). Die eerste prioriteit van die Trump-administrasie gee spesifiek aandag aan die befondsing van strategiese vennote en resultaat-gebaseerde doelwitte. Die versterking van ekonomiese bande is nie net belangrik om geleenthede vir Amerikaanse maatskappye en werkers te skep nie, maar ook om die ekonomiese onafhanklikheid van Afrikalande te verseker.

China en Rusland is vinnig besig om hulle finansiële en politieke invloed op die kontinent uit te brei. Hulle is doelbewus en aggressief besig om groot beleggings te maak ten einde ’n mededingende voordeel bo Amerika te verkry (Coats 2018). Met ’n markaandeel van 34% is Rusland die hoofverskaffer van wapens aan Afrika. Rusland verkoop onder andere wapens aan Angola, Nigerië en Soedan. Militêre adviseurs en tegniese kundiges is ook op die kontinent bedrywig. Rusland het onlangs ’n militêre ooreenkoms met die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) gesluit om regeringsmagte op te lei. Veiligheidsbeamptes word ook opgelei om president Faustin-Archange Touadéra te beskerm. Wat die teenwoordigheid van Russiese militêre personeel egter ongewoon maak, is dat lede van die Wagner-groep, ’n private Russiese militêre maatskappy, bande met rebellegroepe in die noorde van die land het. Die rebellegroepe skep probleme vir Chinese oliemaatskappye wat konsessies vir ontginning in die gebied besit (Spivak 2019).

China gebruik sy ekonomiese voetspoor ook baie goed om militêre hulpverlening te maskeer; wapenverkope word byvoorbeeld gesien as ’n meganisme om ekonomiese invloed oor die Afrikakontinent uit te brei. Volgens die Amerikaanse administrasie is China se verkope van wapens aan Afrikalande besaai met onreëlmatige prosedures, byvoorbeeld gunstige finansiering, lae pryse, swak produkte en die uitruil van sleuteltegnologieë vir die aankoop van die wapens. China kan slegs ’n aandeel in Afrika se vinnig-groeiende wapenmark bekom deur sterk ekonomiese en diplomatieke verhoudinge te sluit (Hendrix 2020).

Ontledings deur die Stockholm International Peace Research Institute (SIPRI) wys dat China ’n betekenisvolle maar relatief klein rol in Afrika se wapenmark speel. Tussen 2000 en 2019 het China se wapenverkope aan Afrika op 7,5% gestaan – in die vyfde plek naas Rusland se 34%, Amerika (19%), Duitsland (17%) en Frankryk (9%). China mag absolute voordeel trek uit sy ekonomiese diplomasie met Afrikalande, maar tot op hede het hy nog geen relatiewe voordeel in terme van markaandeel in wapenverkope verkry nie. China is die netto uitvoerder van wapens aan slegs ’n klein aantal Afrikalande en dit sluit Zimbabwe, Mosambiek, Namibië, Seychelles, Tanzanië en Zambië in. Hierdie verkope verteenwoordig slegs 2,5% van die totale Afrika wapenmark (sipri.org.2021).

China se vinnig-groeiende uitvoere na Afrikalande beteken dat sy belange in die lande beskerm moet word en daarvoor is militêre hulpverlening nodig. Die handhawing van ekonomiese bande met Afrika het alreeds gelei tot ’n verhoogde teenwoordigheid van die Chinese vloot in die Indiese Oseaan, die opleiding van militêre personeel in Afrika (die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) as voorbeeld) en die eerste militêre basis in Djiboeti. Chinese wapenverkope is egter nie orals in Afrika aan die toeneem nie en is dit ’n aanname wat oordryf word (sipri.org.2021).

In Afrika fokus die NVS op die uitbouing van Amerika se ekonomiese beleid met twee vername doelwitte, naamlik wins en mededinging. In die beleidsdokument word dit uitdruklik gestel dat Amerikaanse produkte en dienste as ’n alternatief vir China se groeiende handel met Afrikalande behoort te dien. Afgesien van die voordele wat handel met Afrikalande inhou, moet maniere ook gevind word om China se groeiende ekonomiese voetspoor op die kontinent te verklein (Friend 2018).

Die afwesigheid van ’n Afrika benadering maak dit makliker vir China om sy invloed uit te brei. Amerika se benadering tot Afrika moet op die land se sterkpunte konsentreer: deursigtigheid, hoëkwaliteitprodukte en die bevordering van demokrasie. So ’n benadering kan Amerikaanse leiers insig gee om China se aktiwiteite te verstaan en te reageer op ’n manier wat plaaslike realiteite en kontekste in ag neem (Wilkins 2020). Die bevelvoerder van AFRICOM het verklaar dat teeninsurgensie-aanvalle in dieselfde lig as globale magswedywering gesien moet word. Sulke aanvalle versterk verhoudinge met belangrike bondgenote soos Kenia, Nigerië en Etiopië en gee Amerika ’n meer opmerklike rol as die verskaffer van internasionale veiligheid. Op die kort termyn sal terroristegroepe aanhou om ’n bedreiging vir Amerikaanse belange in te hou, en is dit belangrik vir die regering om ’n gebalanseerde strategie na te streef. Aan die een kant moet die weermag na die veiligheid van die plaaslike bevolkings omsien en aan die ander kant Amerikaanse belange beskerm.

Ten opsigte van die Chinese bedreiging is dit nodig vir Amerika om ’n positiewe strategie te ontwikkel wat Amerikaanse besigheidslui die geleentheid sal gee om in Afrikamarkte te belê en handelsbelange by die huis te beskerm (Szuba 2020). Dit is ’n tweerigtingstrategie. Afrika is ’n groot kontinent wat verskillende strategieë in verskillende gebiede nodig het. Die kontinent het ’n aantal strategiese knelpunte (“choke points”) en seelyne van kommunikasie (“sea lines of communication”) wat onontbeerlik vir globale handel en krities noodsaaklik vir Amerikaanse verdediging in die wêreld is. Die veiligheid en welvaart van Amerika hang af van die strategiese keuses wat die administrasie in tye van krisis maak om dié gebiede te beskerm. Amerika het histories ’n mededingende voordeel bo ander lande in Afrika geniet en moet poog om die voordeel te behou. Dit kan bereik word deur verdedigingsprioriteite op te skerp en hulpbronne aan te wend vir die magswedywering wat nou daar plaasvind (Garamone 2020).

China se ekonomiese voetspoor strek oor vele jare. Die land het Amerika in 2010 verbygesteek as Afrika se grootste handelsvennoot. China het Afrika se myn- en olie-industrieë uitgebrei in ruil vir handelsooreenkomste en ook groot bedrae geld belê in infrastruktuurontwikkeling. Alhoewel die NVS korrek is in die uitwysing van die handelswanbalans tussen Afrika en China, is 65% Afrikane van mening dat die Chinese politiek en ekonomie ’n positiewe invloed op die kontinent het. Die aanvegbare besigheidspraktyke en lae standaarde wat gehandhaaf word in die uitvoering van omgewingsimpakstudies is deel van China se verhoudinge met Afrikalande. Slegs Amerika kan China aanvat op dié gebiede en hulpbronne beskikbaar stel wat met China kan meeding (Friend 2018).

2.4 Die Prosper Africa-inisiatief (PAI)

Die PAI is laat in 2018 bekendgestel. Die inisiatief het ten doel om Amerikaanse beleggings in Afrika te bevorder, die middelklas se lewensgehalte te verbeter en besigheidsvertroue te skep. Verder kan die inisiatief help om die roofpraktyke wat deur China toegepas word, teen te werk. Die PAI moedig Afrikaleiers aan om buitelandse beleggings te kies op grond van die gehalte en deursigtigheid daarvan. Die maatreëls word nie deur China eerbiedig nie (Paquette 2019). Die begroting vir die PAI beloop 50 miljoen Amerikaanse dollar vir die 2020–21 boekjaar en het die potensiaal om veranderinge in Afrika se ekonomiese ontwikkeling en groei mee te bring. ’n Belangrike doelwit van die inisiatief is om inligting met betrekking tot ontluikende markte in te win en dan ’n kommunikasiekanaal te skep waarvolgens Amerikaanse maatskappye die Afrikamark kan betree. Die PAI het ook ten doel om die ondertekening van besigheidsooreenkomste te finaliseer, advies oor finansiële oplossings en risikobestuur te verskaf, regulatoriese en beleidshervormings te ondersteun en struikelblokke vir in-en-uitvoere te verwyder (byvoorbeeld logistieke probleme, kwotas en tariewe). Die oogmerk is om verhoudinge te transformeer vanaf hulpverlening tot volwaardige vennootskappe (Glenn 2019).

2.4.1 Struktuur

Die PAI is nie ’n nuwe buitelandse hulpverleningsprogram nie. Inteendeel, bestaande programme van 16 Amerikaanse agentskappe en departemente word in een enkele program gemobiliseer. In samehang met die United States Agency for International Development (USAID), sluit dit al die Amerikaanse handelsagentskappe in: die Export-Import Bank (EXIM), die Trade and Development Agency (TDA), die Small Business Administration (SBA) en die Overseas Private Investment Corporation (OPIC). Laasgenoemde is in ’n oorgangsfase na die nuwe US International Development Finance Corporation (DFC). Ander deelnemende agentskappe sluit in: die Office of the U.S. Trade Representative (USTR), die Millennium Challenge Corporation (MCC), die U.S. African Development Foundation (USADF) en die Departemente van Landbou, Energie, Binnelandse Veiligheid, Vervoer en Tesourie (Glenn 2019).

2.4.2 Implementering

Die PAI Deal Teams is groepe wat getaak is om Amerikaanse firmas met handel- en beleggingsgeleenthede in Afrika te verbind, Afrikabesighede toegang tot die Amerikaanse mark te gee en kontakte tussen besigheidslui in Amerika en Afrika te fasiliteer. Elke ambassade in Afrika het ’n Deal Team, wat uit bestaande personeel saamgestel is. Washington ondersteun die inisiatiewe en help om besigheidsgeleenthede uit te brei. Amptenare beplan ook om ’n enkele skakelkantoor oop te maak en inligting oor die PAI aan belangstellendes te voorsien. USAID se sentrums in Oos-, Suid- en Wes-Afrika sal help om die inisiatief te implementeer. Noord-Afrika is nog besig met onderhandelinge en die eerste sentrums beplan om in 2021 oop te maak (trade.gov.2020). Een van die take van USAID is om interdepartementele kommunikasie tussen die Departement van Handel en Prosper Africa se beplanningskomitee te koördineer (trade.gov 2020).

2.4.3 Die PAI in perspektief

Terwyl die PAI fokus op die bevordering van privaatsektortransaksies en die koördinering van handel en beleggingsgeleenthede, is dit nie duidelik hoe die inisiatief verskil van vorige pogings om dieselfde resultate te lewer nie. USAID se Afrikasentrums is aan die begin van die 21ste eeu geloods, met die doel om handel en beleggings te bevorder, ekonomiese integrasie aan te help en Afrika se uitvoere na Amerika en andersom te vermeerder. Dit vind alles plaas onder die handels- en wetlike vereistes van die African Growth and Opportunity Act (AGOA). Die Obama-administrasie het die Trade Africa- en Doing Business in Africa (DBIA)-inisiatiewe bekendgestel, wat handelsentrums soortgelyk aan Prosper Africa regoor Afrika geskep het. Terwyl die Obama-inisiatief gefokus het op handel met Afrika, is min direkte dienste vir Amerikaanse beleggers aangebied om die mark ekonomies te ontwikkel. Die PAI het nou DBIA se funksies oorgeneem, omrede laasgenoemde in onbruik geraak het (Signé en Olander 2019).

2.4.4 Vooruitsigte en uitdagings

Op ’n institusionele vlak hang die sukses van die PAI af van die mate waarin deelnemende partye bydra om aktiwiteite te koördineer. Agentskappe maak staat op hulle ervaring en samewerking met ander ontwikkelingsinisiatiewe, soos byvoorbeeld Power Africa. Indien hulle saamwerk, sal Amerika ’n sterker teenwoordigheid in Afrika kan demonstreer. USAID en ander handelsagentskappe werk nou saam met Power Africa en daar is ’n projek van stapel gestuur wat fasilitering tussen die Deal Teams moontlik maak (Runde en Bandura 2019). Sekere van die PAI se doelwitte is makliker om te bereik as ander. Dit mag op die oog af moeilik wees om toegang tot Amerikaanse handel- en beleggingsprogramme te verkry, maar agentskappe is meer as gewillig om aansoekers te help. Die toekenning van banklenings en die aanbied van finansiële dienste is ook ’n voorkeur vir die regering, alhoewel die aanbod van privaatsektorlenings die aandrywer van rentekoersbepalings is. Ander doelwitte, soos byvoorbeeld die uitbreiding van die finansiële sektor en die verbetering van die besigheidsklimaat as ’n middel om privaatsektorgroei te stimuleer, vorm deel van die breër finansiële raamwerk. Dit verander egter nie die impak wat regeringsagentskappe in finansiële hulpverlening en administrasie het nie (Runde en Bandura 2019).

Nog ’n langtermyndoelwit is die bou van kapasiteit om deursigtigheid en die oppergesag van die reg in die ekonomiese konteks (die bekragtiging van kontrakte, eiendomsregte, anti-korrupsiewette en gelyke markaandeel vir buitelandse en plaaslike beleggers) te handhaaf. Pogings om oneffektiewe oorgrenshandelsprosedures te hervorm en die aanmoediging van Afrikastate om effektiewe handels- en beleggingsbeleidsraamwerke op te stel, is alles langtermyndoelwitte van die Amerikaanse regering (usaid.gov.2020).

Daar is sedert 2018 verhoogde uitvoere van Amerikaanse masjinerie, voertuie, vliegtuie en brandstof, terwyl Amerika ru-olie, metale en minerale en landbouprodukte invoer. Van die snelgroeiendste ekonomieë in die wêreld is in Afrika en verhoogde handel met slegs ’n paar van die lande kan die PAI sukses laat behaal. Aan die ander kant is daar nog groot strukturele en ekonomiese tekortkominge en dit maak Afrika minder mededingend as ander gebiede van die wêreld (usaid.gov.2020). Selfs in lande wat ekonomies beter presteer, is swak infrastruktuur, beperkte en onbetroubare elektrisiteitsvoorsiening, vervoer en kommunikasie struikelblokke in die verloop van die handeldryfproses (tn.usembassy.gov.2020).

Laastens het die PAI die potensiaal om handel tussen streke aan te vul en te fasiliteer. Die Africa Continental Free Trade Area (AfCFTA), wat poog om handelsversperrings tussen sy 55 ondertekenaars uit die weg te ruim, kan uiteindelik lei tot groter Afrikamarkintegrasie. Amerikaanse amptenare is optimisties oor AfCFTA se potensiaal, maar het nog nie duidelike voorstelle oor hoe die PAI by AfCFTA gaan baat vind nie. Op ’n positiewe noot ondersteun die Amerikaanse regering Afrikalande se deelname aan die WHO en dit sluit die fasilitering van handelsooreenkomste in. Die PAI kan ’n ondersteunende rol in dié verband speel (tn.usembassy.gov.2020).

2.4.5 Ekonomiese vennootskappe met Afrika

Die regering het vanaf 2017 tot dusver beduidende suksesse op die ekonomiese front behaal. Onder die Better Utilization of Investments Leading to Development Act (BUILD act), is die Development Finance Corporation (DFC) gestig, wat nuwe instrumente en hulpbronne aan die Amerikaanse regering beskikbaar stel, om ondersteuning en beleggings in die Afrikamark verder uit te brei. Dit sluit in die verdubbeling van beleggingskapitaal van 60 biljoen dollar en die toekenning van mag aan die DFC om aandelekapitaal op beleggings te beperk. Die bereidwilligheid van Amerikaanse maatskappye om projekte in Afrika te finansier, help met werkskepping en dien ook as aandrywer van die ekonomiese bemagtiging van die gemeenskap.

Die PAI slaag ook daarin om tweerigtinghandelsverkeer met Afrikastate te verbeter. Dit is die eerste keer dat Amerikaanse maatskappye in Afrika deur die regering ondersteun word (wilsoncenter.org.2020). Voorheen was ondersteuning afkomstig van private en nieregeringsorganisasies. Die Deal Teams doen goeie werk om besighede te ondersteun en werk saam met plaaslike regerings om ’n klimaat vir beleggings te skep. Die Deal Teams identifiseer gebiede vir beleggings en nader dan die Millennium Challenge Corporation (MCC), wat sorg vir die transformering van die beleggings. Die AGOA is ook nou 20 jaar in werking en teen die einde van 2019 het 39 lande vir AGOA-voordele gekwalifiseer. Ander kriteria sluit in respek vir die oppergesag van die reg, handhawing van ’n markgebaseerde ekonomie, beskerming van werkers se regte en die bekamping van korrupsie (ustr.gov.2020).

2.4.6 Invloed op streeksorganisasies in Afrika

Hierdie afdeling bespreek die invloed van die PAI op die verskillende streke in Afrika. Die doelwitte van die inisiatief in streeksverband is om handel en ekonomiese geleenthede te bevorder en interstreekshandel aan te moedig. Die bevordering van beter ekonomiese inisiatiewe en integrasie van lande in die streek is ook op die agenda. Eerstens is Marokko in Noord-Afrika as ekonomiese sentrum vir die PAI geïdentifiseer. Die streek sal 500 miljoen Amerikaanse dollar oor ’n tydperk van vyf jaar ontvang om besigheidsgeleenthede, beleggings, finansiële en regulatoriese instellings te skep (Dumpis 2021).

In Wes-Afrika is Ghana, Senegal en Burkina Faso as sentrums geïdentifiseer. Danksy groei in dié lande se plaaslike markte gaan die inisiatief 300 miljoen Amerikaanse dollar beskikbaar stel om 40 000 werksgeleenthede te skep en interstreekshandel te bevorder (westafricatradehub.2021). In Oos-Afrika is Kenia geïdentifiseer om volhoubare ontwikkelingsprojekte en privaatsektorvennootskappe te bevorder (usaid.gov.2021). Die inisiatief sluit ook lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) in. Botswana, Namibië, Suid-Afrika en Tanzanië beskik reeds oor gevestigde handelsentrums wat die kapasiteit in die streek verder kan uitbrei en interstreekshandel kan aanmoedig (sadc.int.2019). Verdere doelwitte is om hulpbronne vir nywerhede beskikbaar te stel, kennis en tegnologie met die gemeenskap te deel, infrastruktuur op te knap, telekommunikasie en hoëspoedinternetverbindings op te gradeer en logistieke bestuur te verskaf.

As voorbeeld word gekyk na Suid-Afrika waar die Industriële Ontwikkelingskorporasie (IOK) en die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika gebruik kan word om die nywerheidsveldtog in Suidelike Afrika op die been te bring. Die Suid-Afrikaanse regering se geskiedenis van vervaardiging en hulpbronne tot sy beskikking plaas die land in ’n gunstige posisie om leiding te neem. Die probleem is egter dat geen effektiewe ekonomiese model geskep is wat ander lande in die streek aanspoor tot vervaardiging nie.

Indien bogenoemde instellings hulle vaardighede en tegnologie saamsnoer, kan ander lande in die streek van die tegnologieë gebruik om vernuwend te raak en oplossings vir plaaslike uitdagings te vind (Poee 2017). Tweedens kan die Amerikaanse regering in die landbousektor belê en die streek help om sy landbousektor te moderniseer. Voedselsekerheid gaan in die toekoms ’n groot probleem raak en indien die lande hulpbronne tot voordeel van al die lande in die streek ontwikkel, gaan dit bydra tot die lewering van voedsel in die toekoms (Ortagus 2020).

 

3. Amerikaans-Chinese wedywering

3.1 ’n Sistemiese en veiligheidsontleding

Vir doeleindes van hierdie afdeling wys sisteemontleding op verskynsels wat die wedywering tussen Amerika en China op ’n internasionale vlak kenmerk. Dit beïnvloed met ander woorde die struktuur van die internasionale sisteem. Veiligheidsontleding wys op die maatreëls wat tussen Amerika en China getref word om oorlewing en veiligheid in die sisteem te verseker. Internasionale en nasionale veiligheid word deurgaans met mekaar in die internasionale sisteem verbind.

Internasionale verhoudinge is die laaste twee jaar deur strawwe mededinging tussen Amerika en China gekenmerk. Die mededinging vorm die lens waardeur ander internasionale rolspelers belangrike gebeure op die internasionale politieke terrein waarneem (Goldstein 2020:48–9). Die opkoms van ’n nuwe internasionale wêreldorde is die resultaat. Gaan dit Amerika of China wees wat die grootste impak op internasionale veiligheid uitoefen? (Lippert en Perthes 2020:5–6). China se ekonomiese en militêre vermoëns hou tans ’n groot bedreiging vir Amerika in en beïnvloed die verskuiwing van mag in die internasionale politieke sisteem (Zelleke 2020).

Die fokus van die mededinging is beide lande se ambisie om die oorheersende mag in die wêreld te word wat op sy beurt die internasionale magsbalans versteur. Volgens kenners word die Amerikaanse weermag steeds gebruik as ’n middel om stabiliteit en veiligheid in konflikgebiede te skep, byvoorbeeld die bekamping van terrorisme en Moslem-ekstremisme, eerder as die vestiging van Amerikaanse belange en waardes as die einddoel. Dit is in teenstelling met die Chinese metode wat ekonomiese middele gebruik, byvoorbeeld die GPI, om eerstens beheer te verkry en dan ekonomiese oorheersing in betrokke lande te vestig (Lippert en Perthes 2020:7–8).

3.1.1 Handels-, ekonomiese en finansiële konflik

Die kritiek wat Washington lewer oor China se handelspraktyke, onregverdige wedywering en skending van internasionale reëls en regulasies word wêreldwyd gedeel. China word ook in Afrika veroordeel oor sy onwettige besigheidspraktyke en minagting van internasionaal aanvaarde ekonomiese beginsels. ’n Kwessie wat hiermee verband hou, is die hervorming van multilaterale handelsreëls om voorsiening te maak vir ’n nuwe internasionale ekonomiese orde. China wil aan die hoof van dié ekonomiese orde staan. Die strategiese wedywering tussen Amerika en China sal aanhou om ’n definitiewe invloed op internasionale politiek uit te oefen, selfs al kom die twee lande ooreen om belangrike handelsgeskille in die ampstermyn van die nuwe president op te los (Qiu en Xing 2019:3–4).

3.1.2 Tegnologiese dimensie

Mededinging vind ook in die tegnologiese veld plaas. Dit is diep gewortel in die strewe na vernuwing en markoorheersing en sal langer voortduur as enige oplossing wat vir handelskonflikte gevind word. Hier is die mededinging geskoei op watter land die tegnologiese standaarde gaan stel en tegnopolitieke invloedsgebiede in die wêreld gaan bou. Tegnologiese wedywering is ’n strewe na veiligheid en het ten doel om geopolitieke mag te verkry in gebiede waar lande en burgers afhanklik van die digitale produkte en dienste raak wat deur die moondhede verskaf word. In dié verband word die ontwikkeling en gebruik van tegnologie toenemend met die politiek en ideologie van die moondheid verbind. Tegnologiese wedywering word deel van ’n stelsel wat dit teenstaan of ’n stelsel wat dit aanvaar en op sy beurt beïnvloed dit die plaaslike politieke orde: die verhouding tussen staat en gemeenskap, en tussen regering en burgers (Wu 2020). Amerika met sy liberale, demokratiese stelsel en China met sy outoritêre, kommunistiese regime wys dat die politieke/ideologiese dimensie ’n rol speel in die wedywering.

In werklikheid het ideologie nog altyd ’n groot rol in die twee lande se verhoudinge met mekaar gespeel. Die aanname is dat indien die Weste met ’n demokratiese China gehandel het, konflik ook minder sou wees. Tegnologie is ’n groot faktor wat die huidige wedywering kenmerk en ’n dryfveer vir die vestiging van politieke en ideologiese ordes. Tegnologiese vindingrykheid en kreatiwiteit gaan kritiese bepalers van Amerika se mag en krag in die volgende dekades wees.

Die Trump-administrasie verdien krediet vir die erkenning van die belangrikheid van tegnologiese wedywering met China en die wyse waarop dit hanteer is, byvoorbeeld die Huawei-kwessie. Die Biden-administrasie sal vinnig moet begin om oplossings vir die uitdagings wat Trump gestel het, te vind. Wat die administrasie kan doen, is om vennootskappe met lande wat Amerika se demokratiese waardes en die liberale internasionale orde ondersteun, te sluit. Dit sal Amerika weer in ’n leierskapposisie plaas en ’n nuwe era van ideologiese wedywering met China inwy. Tegnologie gaan in dié verband die sentrale skeidslyn in die wêreldpolitiek word (Allen 2021). Die hoofelement hier is die verbintenis tot multilateralisme en vennootskappe. Die volgende voorbeelde illustreer in watter mate Amerika tegnologiese mededingendheid kan behou.

Die laagste vlak van tegnologie is vervaardiging. China domineer die voorsieningskettings vir die vervaardiging van elektroniese toerusting soos slimfone en skootrekenaars, maar is afhanklik van die invoer van 300 miljoen Amerikaanse dollar se semi-geleiers elke jaar. China beskik nog nie oor die vermoë om semi-geleiers op groot skaal te vervaardig nie en voer dit onder andere uit Amerika en Taiwan in (Allen 2021). Op die vlak van infrastruktuur het demokratiese lande tradisioneel ’n voordeel bo outoritêre regimes geniet in tegnologiese ontwikkeling en vooruitgang. Die ontwikkeling van telekommunikasie dateer byvoorbeeld terug na Brittanje se ontwerp van die telegram.

China het kennis geneem van Amerika se oorheersing van telekommunikasie en het diensverskaffers soos Huawei befonds om ’n markaandeel in die wêreld te bekom. Amerika en sy demokratiese bondgenote sal hard daaraan moet werk om die volgende generasie van telekommunikasie-infrastrukture op te rig om te verseker dat Chinese hardeware nie by verstek die keuse van internasionale verbruikers word nie. Die kwessie beïnvloed nasionale en internasionale veiligheid. Nog ’n voorbeeld is die aanwending van sosialemediatoepassings soos Facebook en Instagram. Tans oorheers Amerikaanse firmas die gebruik van internasionale sosialemediaplatforms, maar met die aanlyn sukses wat Tik Tok behaal – ’n platform wat deur Chinese beleggers besit word – kan Amerika en sy bondgenote die oorheersing nie as vanselfsprekend aanvaar nie (Daly 2020).

Volgens die huidige NVS is die handhawing en bevordering van waardes en die liberale orde nie ’n prioriteit vir die Amerikaanse regering nie. Ontleders is wel bekommerd dat die liberale wêreldorde deur die opkoms van China in die slag gaan bly (Doffman 2019). China vrees weer dat demokrasie en die oppergesag van die reg ’n vastrapplek in die China gaan kry. Dit gebeur in ’n mate alreeds met miljoene jong Chinese wat in westerse lande geskool is. Die CKP sal demokrasie egter nie maklik aanvaar nie; dit sal neerkom op verlies van die sentrale mag wat noodsaaklik is vir die bou van ’n harmonieuse Chinese gemeenskap deur middel van tegnologiese middele (Doffman 2019).

Vanuit die Chinese perspektief beskou, is tegnologie ’n belangrike gebied wat die wedywering kenmerk. China se ekonomiese groei het die vervaardiging van tegnologiese produkte ’n geweldige hupstoot gegee en sal die dinamika van die wedywering vir die volgende aantal jare of selfs dekades bepaal. Die bekendstelling van wetgewing deur die Chinese regering om tegnologiese ontwikkeling as ’n nasionale bate te klassifiseer, kan vergelyk word met die Trump-administrasie se NVS van 2017. In dié verband is ekonomiese veiligheid in dieselfde domein as nasionale veiligheid geplaas (Wu 2020).

Onder die leierskap van Xi Jinping word vraagstukke wat met nasionale veiligheid verband hou deur die lens van tegnologie ontleed. Die regering se “Made in China 2025 policy” wat ondernemings aanmoedig om tegnologieë plaaslik te ontwikkel om sodoende hulle afhanklikheid van buitelandse produkte te verminder, is een so ’n voorbeeld. Die Chinese regering erken dat daar ideologiese verskille tussen die twee lande bestaan en dat leierskap op die internasionale tegnologiese terrein die spilpunt van die wedywering is (Lim 2019).

3.1.3 Die kernelemente van strategiese wedywering met China

Die primêre bedreiging vir Amerika is China se groeiende ekonomiese en militêre vermoëns. Dit word gekenmerk deur strategiese wedywering vir status en internasionale leierskap (Mazarr 2017:35). China en Amerika is besig om die grondslag van die internasionale sisteem te verander en dit kom grootliks neer op ’n wedywering ten opsigte van norme, narratiewe en legitimiteit; ’n wedywering om te bepaal watter land die oorheersende invloed op die heersende globale paradigma gaan hê. Dié paradigma bestaan uit vier komponente: ekonomiese en politieke waardes, kulturele invloede, heersende reëls en norme beliggaam in die Volkereg (dit sluit die opstel van internasionale ooreenkomste en standaardpraktyke in) en leierskap in internasionale organisasies (Mazarr en Rhoades 2018:15).

Ten spyte van China se massiewe propagandapogings en die gebruik van ekonomiese diplomasie, is die land swak toegerus om so ’n wedywering te wen. Amerika kan die wedywering egter verloor deur die formulering en implementering van swak georkestreerde beleid. Ekonomiese elemente het ook ’n invloed op die wedywering. In breë terme gesien, vorm ekonomiese prestasie en industriële wedywering die grondslag vir China se ekonomie. China se mikpunt is oorheersing in ’n reeks nywerhede. Die land gebruik sy buitelandse beleggings, veral die GPI, om ekonomiese en strategiese roetes op die wêreldkaart te heroriënteer. Sekere van die strategieë is onversoenbaar met die huidige internasionale reëlsgebaseerde ekonomiese orde (Qiu en Xing 2019:5–6).

Die wedywering het ook globale gevolge, selfs al word dit in die voorafgaande paragrawe as bilateraal uitgebeeld. Dit affekteer verhoudinge met ander lande, beïnvloed streeksdinamika, gee gestalte aan die werk van internasionale organisasies en forums, byvoorbeeld die G20 en VN met sy subagentskappe, en het ook die potensiaal om die werk van multilaterale organisasies te ondermyn. Amerika en China interpreteer die werk wat gespesialiseerde nieregeringsorganisasies in Afrika doen verskillend. As voorbeeld word menseregte genoem, waar China klem lê op sosiale interaksie tussen lede van ’n groep, in teenstelling met Amerika wat klem lê op die regte wat die individu het. Afrikagemeenskappe het tradisioneel ’n sterk groepsidentiteit en dit assimileer met die Chinese begrip Guanxi wat verwys na vertroue en sterk sosiale dinamika binne groepe (Herman en Szanajda 2013:45).

In internasionale politiek is die direkte afdwingbare of oorredende variant van mag die algemeenste. Dit kom neer op regerings se vermoë om persone te oorreed om take uit te voer wat hulle nie onder normale omstandighede sou doen nie. Waarnemers is bekommerd dat dié vorm van mag toenemend deur China gebruik word om ekonomiese en militêre invloed in die wêreld uit te oefen. Aan die ander kant is daar kenners wat aanvoer dat China die meer indirekte, onderbewuste en ideale vorms van mag gebruik; dié mag fokus op agendas, gewoontes en spesifieke standpunte oor vraagstukke in die internasionale politiek (Roy 2020:105–7).

Die verskil tussen direkte en indirekte mag word deur ’n voorbeeld geïllustreer. Direkte mag dwing ’n staat om sy ekonomie te liberaliseer. Indirekte mag skep ’n globale mark wat die regering laat glo ’n liberale ekonomie is in die beste belang van die staat. Laasgenoemde het ’n invloed op die denkwyse van burgers wat hulle voor ’n keuse stel om te besluit watter belange vir hulle belangrik is. Dit is nie die afdwing van ’n spesifieke denkrigting op die burgers van ’n staat nie (Lukes 2005:480–2). Indirekte mag is meer beslissend as direkte mag; Iran en Noord-Korea wat ekonomies swakker as Amerika en China is, kan byvoorbeeld die versoeke van die sterker state weier. Konflik van belange, nasionale trots, politieke belange van die teikenstaat en ’n reeks ander faktore kan die impak van direkte vorms van mag verswak.

Die konteks waarin die magspel plaasvind − byvoorbeeld ’n wapenwedloop, territoriale konflik, tegnologiese oorlogvoering en kuberspioenasie − kan die belange van swakker state op dieselfde vlak as die belange van Amerika bring. Op dié manier word Amerikaanse invloed aansienlik versterk (Lukes 2005:480–5). Die realis Hans Morgenthau het verwys na die invloed wat kultuur as ’n vorm van indirekte (sagte) mag op die denkrigtings van leiers en burgers kan uitoefen. Hy het beweer dat kulturele imperialisme die mees subtiele en suksesvolle van alle imperialistiese beleide is (Morgenthau 1993:72).

Die kulturele en onderwysprogramme wat China in Afrika van stapel stuur, het onder andere ten doel om leiers en mense in Afrika meer oor die Chinese lewenswyse te leer. Dit is ’n vorm van sagte mag en die doelwit is nie om gebied te bekom of die ekonomie te kontroleer nie, maar om die denkrigtings van leiers en die bevolking te beïnvloed. Die volgehoue en suksesvolle pogings van China om kulturele mag in Afrika te verkry en Amerika se kleiner fokus op die vestiging van Amerikaanse waardes en kultuur verander die sagtemagsverhouding op die kontinent.

China sien die waardes, wat breedweg deur Amerika met die res van die wêreld gedeel word, as ’n byproduk van oorheersing en veroordeel die Amerikaanse beskouing dat die Chinese waardesisteem tweederangs is. Die argument is dat China nog nie heeltemal toegerus is om die Amerikaanse internasionale orde suksesvol uit te daag nie. China maak wel vooruitgang en sal binne die volgende jaar of twee daardie vermoë besit. Die opkomende strategiese wedywering is ’n stryd rondom die konteks waarin norme, reëls, narratiewe en instellings state se belange in die afsienbare toekoms gaan definieer. Die daarstelling van ’n wêreldorde gebaseer op ideologiese verskille en nasionalistiese politieke modelle gaan kenmerkend van die wedywering word (Schweller en Pu 2011:41–4).

3.2 Amerikaans-Chinese wedywering en die geskarrel vir Afrika

’n Wye reeks rolspelers en belange dryf Chinese gedrag in Afrika. Die Chinese regering en kommersiële rolspelers het drie primêre ekonomiese belange: die invoer van natuurlike hulpbronne; beleggings in ’n groeiende en relatiewe onderontwikkelde mark vir in- en uitvoere en geleenthede vir Chinese maatskappye om werk te skep en ervaring op te doen. Die oorhoofse strategie is om ekonomiese en politieke invloed uit te oefen, terwyl die beskerming van sy burgers en fasiliteite (besighede, myne en olievelde) die fokus van sy veiligheidstrategie is (Thrall 2015).

Volgens kenners toon die ekonomiese groei en direkte buitelandse beleggings wat China oor die laaste aantal jare gehandhaaf het, tekens van afplatting en is dit ’n ernstige swakpunt in die mondering van die land se beleid van internasionale uitreiking. China se toestaan van lenings skep ’n skuldlas vir Afrikalande en dit plaas druk op China om sy ekonomiese bankstaat in Afrika te balanseer. China se beleid van nie-inmenging in die plaaslike krisisse van ander lande laat ook vrae ontstaan of hulle die beginsel werklik toepas, byvoorbeeld inmenging in die veiligheidskrisisse in Soedan, die DRK en ander Afrikalande.

China se bemiddeling in die burgeroorlog in Soedan het geblyk onder valse voorwendsel te wees en die beskerming van oliebelange en die verkoop van wapens aan rebellegroepe was die hoofaansporing. Dit was ’n direkte inmenging in die plaaslike politiek van Soedan (Thrall 2015). Terwyl dit waar is dat Chinese betrokkenheid in Afrika deur ekonomiese oorwegings gedryf word, is die fokus op die beveiliging van Chinese belange aan die toeneem. Dit is amper onmoontlik om na ekonomiese belange om te sien sonder om veiligheidsbelange ook in ag te neem.

In Oktober 2000 het China die Forum vir China-Afrika-samewerking (FOCAC) in Beijing geloods. Dit is bygewoon deur verteenwoordigers van 44 Afrikastate met die doel om sosioëkonomiese China-Afrika-ontwikkeling te bevorder. Twintig jaar later met die sesde FOCAC-vergadering het China 60 biljoen Amerikaanse dollar aan Afrikastate uitgedeel en is versoek dat die geld ook vir veiligheidsopgradering gebruik word. In September 2013 het president Xi Jinping die GPI bekendgestel om die Chinese vasteland deur middel van ’n netwerk van handelsroetes met Sentraal-Asië, die Midde-Ooste, Afrika en Europa te verbind (xinhuanet.com.2020).

Infrastruktuurontwikkelingsprojekte, beleggings en finansiële hulpverlening is alles deel van China se ekonomiese diplomasie en voorbeelde van die modelle en projekte word hier onder aangedui. Eerstens, die Angola-model wat in 2004 bekendgestel is. Die model finansier lande ryk aan natuurlike hulpbronne vir die verskaffing van die hulpbronne aan China. China het 2 biljoen Amerikaanse dollar aan Angola beskikbaar gestel vir die lewering van 10 000 vate ruolie oor ’n tydperk van 17 jaar. China het ook die infrastruktuurvakuum in Angola, ’n gevolg van die burgeroorlog, gebruik om oor 17 jaar lenings ten bedrae van 42 biljoen Amerikaanse dollar aan Angola te gee (chinafile.com.2018).

Tweedens, die oprigting van ambisieuse infrastruktuurontwikkelingsprojekte deur Chinese staatsgebaseerde maatskappye, soos byvoorbeeld die Mombasa-spoornetwerk in Kenia ten bedrae van 3,5 Amerikaanse dollar, en die Soubre-megadam in Côte D’Ivoire ten bedrae van 1 biljoen Amerikaanse dollar. Beide die projekte het finansiering van Chinese banke nodig gehad om van die grond af te kom. China se Afrikabelange lê meestal in lande ryk aan natuurlike hulpbronne, insluitende Zambië, Angola, Algerië, Nigerië en die DRK. In Zambië het Chinese maatskappye kopermyne gekoop om die ryk afsette te ontgin. Teen 2018 was die Zambiese regering in so ’n enorme skuld by China dat hy die internasionale lughawe as kollateraal moes aanbied om die 6,5 miljoen Amerikaanse dollar in skuld terug te betaal. Om nie as ’n wanbetaler bekend te staan nie en ook sy goeie vriendskap met China te behou, het die Zambiese regering Mandaryns verpligtend gemaak vir graad 8 tot 12. Dit is die vierde Afrikaland wat hierdie stap geneem het (Brautigam 2009:25–6).

In Nigerië het Chinese oliemaatskappye oliekonsessies in die Golf van Guinee verkry en in die laaste tien jaar multibiljoene Amerikaanse dollar beskikbaar gestel vir die ontwikkeling van die spoornetwerk. Die Chinese Export-Import Bank (Exim) was die groot finansierder van die projek en het ’n verdere 5 biljoen Amerikaanse dollar gefinansier nadat Nigerië versuim het om lenings terug te betaal. Dit is ’n gepaste voorbeeld van China se skuldlokvaldiplomasie wat die land massiewe invloed oor Afrikalande gee. China teiken ook die natuurlike hulpbronne van Afrikalande en in 2007 is ’n bedrag van 6 biljoen Amerikaanse dollar aan die DRK geleen in ruil vir 10,5 miljoen ton koper en die verkenning van mynregte. Hierdie regte het die weg gebaan vir die toekenning van ’n verdere 3 biljoen Amerikaanse dollar vir die oprigting van ’n koper- en kobaltmyn (Oke 2019:78–80).

3.3 Die onvermydelike gevolge van China se skulddiplomasie vir Amerikaanse nasionale belange

Terwyl Chinese skulddiplomasie vir die meeste Amerikaners nie ter sake is nie, is dit ’n ernstige bedreiging vir nasionale veiligheid. Meer direk, China se gewilligheid om geld aan Afrikalande te leen en die moontlikheid van wanbetaling, kan in die finale instansie lei tot beslaglegging op strategiese bates. Chinese lenings aan die klein landjie Djiboeti het byvoorbeeld die ratio van skuld tot bruto nasionale produk (BNP) tussen 2016 en 2018 van 55% tot 85% laat groei. Indien Djiboeti in gebreke bly om sy skuld aan China terug te betaal en die hawe wat Amerikaanse troepe van middele voorsien prysgee, kan dit Amerika se vermoë om militêr in Afrika en die Midde-Ooste betrokke te wees, ernstig belemmer. Amerikaanse amptenare vrees dat China ’n beperking gaan plaas op die soort en hoeveelheid militêre toerusting wat aan Camp Lemonnier, die Amerikaanse militêre basis, gelewer word indien hulle die hawe oorneem (Harris 2018).

Laastens ontneem China se skulddiplomasie Amerika van ’n mededingende aandeel in projekte soos hoëspoedspoorlyne (high speed railways) en draadlose internetwerke (wi-fi). Ten einde meer duidelikheid oor die skulddiplomasie te kry, kan Amerikaanse amptenare met China onderhandel oor die implementering van deursigtige en verantwoordbare meganismes wat die beleggingsklimaat sal versterk (Shalal 2020).

 3.4 Amerikaanse maatskappye en die GPI

’n Vraag wat dikwels opduik is of Amerika en China kan saamwerk om Afrika se ontwikkeling te bevorder. Die antwoord is bevestigend indien gekyk word na die potensiaal wat die GPI het om Afrika gesamentlik te ontwikkel. Amerika en China se filosofieë oor besigheid verskil. Die Chinese maak staat op lenings en beleggings van staatsbeheerde maatskappye om ontwikkeling aan te moedig, terwyl Amerika gebruik maak van private maatskappye om lenings te bekom. Die Amerikaners doen ook ontledings van stygings en dalings in die geldmark om geld vir ontwikkeling beskikbaar te stel.

Die twee filosofieë kan versoen word, indien samewerking gebaseer is op die bou van kapasiteit, die bevordering van deursigtigheid in die toekenning van kontrakte en die neem van verantwoordelikheid in die koördinering van projekte (Sun 2018). Die twee lande het onder andere saamgewerk om elektrisiteit te verskaf onder die Power Africa-inisiatief van president Obama. In 2015 het China Amerika genader om kennis en hulp te verleen in die bou van die ambisieuse Inga3- hidroëlektriese aanleg in die DRK, die wêreld se grootste hidroëlektriese projek.

Nog ’n Amerikaanse maatskappy, General Electric (GE), ’n wêreldleier op die gebied van elektrisiteitsvoorsiening en hernubare energie, het vanaf 2016 kontrakte met Chinese GPI-maatskappye begin sluit om masjinerie, toerusting, tegniese ondersteuning en opleiding te verskaf. Konsultante van beide lande is dit eens dat samewerking op goeie voet geskied en meer projekte word in die vooruitsig gestel (Sun 2018). Projekbestuurders van China is veral tevrede met die ervaring en kanale vir internasionale finansiering wat GE bring. Belangrik is dat die projekte steeds deur Afrikalande besit mag word, alhoewel die ontwikkeling en aanbieding deur China gedoen word. Amerika se rol is om die logistiek en tegnologie te voorsien. Hierdie gedeelde visie het ten doel om die Afrikamark te ontwikkel deur losstaande projekte in ’n netwerk van besigheidsgeleenthede tussen Afrikalande, China en Amerika te omskep (Liu 2019).

Ander Amerikaanse multinasionale maatskappye is ook aktief besig om besigheidsgeleenthede wat met die GPI verbind word, te ondersoek. Caterpillar sien die GPI as ’n hoofgroeigebied vir die verkope van sy konstruksiemasjinerie en die maatskappy se toerusting word op verskeie bouterreine in Afrika opgemerk. Caterpillar se lang geskiedenis in Afrika lê ’n stewige grondslag vir Chinese besigheidsvennote om die toerusting te gebruik (Singh en Goh 2018). Die GPI hou ook groot voordele in vir Honeywell, die Amerikaanse tegnologiese en vervaardigingsreus. Honeywell bied ’n wye reeks Chinees-vervaardigde produkte aan, insluitende konstruksie- en boumasjinerie, persoonlike beskermingsmateriaal soos kopskerms en handskoene, en ander veiligheidsprodukte. Die produkte is noodsaaklik vir die veiligheid en beskerming van werkers op GPI-bouterreine (Honeywell.com.2017).

Nog ’n gebied van samewerking is die ontwikkeling van die derdepartymark met Chinese GPI-kontrakteurs (beltandroad.news.2019). Die derdepartymarksamewerkingsmodel verwys na die gesamentlike ontwikkeling van projekte deur Chinese maatskappye en vennote in ontwikkelde lande. Die model het ten doel om die wedywering wat in China se vervaardigingsbedryf bestaan met die gespesialiseerde tegnologie van ontwikkelde lande te verbind en dan in bedryf te stel. Die samewerkingsmodel tussen China en Japan kan as voorbeeld vir die ontwikkeling van derdepartymarkte dien. Die Chinese regering verwag dat derdepartymarksamewerking die dryfveer gaan word vir toekomstige projekte (Chen 2019).

Die Amerikaanse maatskappy Frontier Services Group is onlangs gestig om veiligheid, logistiek en versekering aan GPI-kontrakteurs te bied. Die groep bestaan uit tegniese en voormalige weermagpersoneel en die lede se ervaring is waardevol om Chinese fasiliteite en toerusting te beskerm (Sukhankin 2020). Die GPI is so saamgestel dat dit Chinese oorkapasiteit absorbeer. Amerikaanse maatskappye wat goeie verhoudinge met hulle Chinese eweknieë het, vind egter baat daarby deur goeie winste te maak (Sukhankin 2020).

3.5 Afrikaleiers se standpunt oor Amerikaans-Chinese wedywering

Afrika, soos al die ander kontinente, was geaffekteer deur die Koue Oorlog. Alhoewel minder belangrik as Europa en Asië, het Amerika en Rusland Afrika gebruik om geopolitieke en strategiese invloed uit te oefen (Olander 2020). Leiers in Afrika is dit eens dat dié soort magswedywering nadelig vir die kontinent was en wil nie graag ’n herhaling van die dinamika sien nie (Yachyshen 2020). Dit is belangrik dat Afrikalande die trajek van hulle verhoudinge met Amerika en China bepaal en nie andersom nie. Dit sal verhoed dat hulle uitgebuit word, soos tydens die vorige grootmoondheidwedywering.

Afrikalande moet hulle kernbelange self bepaal en in onderhandelinge selfgeldend optree om die belange te beskerm. In die VN se algemene vergadering kan klein en swakker Afrikalande byvoorbeeld stem oor verskeie kwessies in samehang met grootmoondhede, wat kan lei tot die aanvaarding van resolusies en programme van aksie. Die stemme kan ook as wapens gebruik word om hulle invloed te laat geld teenoor die mag van die grootmoondhede. Die formulering van proaktiewe agendas sal presies afhang van die onderhandelingsmag wat hulle het en of dit ’n invloed op die beleidsrigtings van Amerika en China gaan uitoefen. Tot dusver is daar nog geen aksies geneem nie en loop Afrikalande die gevaar om weer eens deur die grootmoondhede misbruik te word (Olander 2020).

 

4. Amerikaans-Chinese wedywering en IV-teorie

Teoretiese insigte uit die veld van IV is van waarde om die wedywering tussen Amerika en China te ontleed. Mag speel ’n groot rol in IV en werp lig op state se strewe na grootmoondheidstatus. Die afdeling kyk eerstens na die konsep van mag en hoe dit die wedywering tussen Amerika en China beïnvloed. Tweedens word die Amerikaanse administrasie se veiligheidsdoelwitte aan die hand van IV-teorieë bespreek en laastens word ’n teoretiese waardepaling van China se internasionale strewes aangebied.

4.1 Mag in IV-teorie

Mag word op verskillende maniere in IV gedefinieer. Die moderne diskoers in die algemeen verwys na die militêre en ekonomiese mag van state. State in die internasionale sisteem wat oor beduidende vlakke van mag beskik, word geklassifiseer as kleinmoondhede, middelmoondhede, streeksmoondhede, grootmoondhede en supermoondhede (Kennedy 1989:29).

Politieke wetenskaplikes en IV-spesialiste fokus op die volgende begrippe van mag (daar word ook gepoog om voorbeelde te gee wat die wedywering tussen Amerika en China kan uitlig): Eerstens, mag as ’n doelwit. Beide Amerika en China se ekonomiese en militêre groei, kulturele invloed en vorme van sagte mag, byvoorbeeld akademiese uitruilprogramme, die deel van kennis en inligting en tegnologiese innovasie, se mikpunt is om internasionale mag te verkry. Tweedens, mag as invloed. Amerika en China gebruik mag as invloed om politieke, militêre, ekonomiese en kulturele oorheersing op die internasionale terrein uit te oefen.

Die volgende tipologieë van mag as invloed bestaan: (a) Dwang verwys na reëls, waardes, norme en ook militêre invloed wat op die internasionale gemeenskap van krag gemaak word, byvoorbeeld die Amerikaanse liberale internasionale orde en waardesisteem; (b) aantrekking verwys na die aanloklikheid van die kultuur, taal en gewoontes van ’n sekere land of lande vir die inwoners van ander lande. Dit is omdat die aspekte oorheersend is en die inwoners van ander lande dit aanvaar as die oorheersende paradigma of daarmee wil assosieer, byvoorbeeld Engels as die internasionale kommunikasietaal, westerse media en rolprente en die opvatting dat onderrig by westerse instellings akademies van hoër gehalte is. Studie in China is egter nou baie aanloklik vir studente uit Afrika as gevolg van ruim studiebeurse en die lae lewenskoste in die land. (c) Samewerking verwys na die proses waardeur lande saamwerk om gemeenskaplike belange te bevorder en voordeel te verkry. Teen die einde van 2020 kon geen gebiede geïdentifiseer word waar Amerika en China konstruktief saamwerk om internasionale vraagstukke op te los nie. (d) Wedywering verwys na die staat van internasionale verhoudinge waar grootmoondhede daarna streef om hulle ekonomiese, politieke en militêre belange te vermeerder en dié van mededingers te verminder (Baldwin 2016:1–8). Die wedywering is strategies omdat spesifieke planne en aksies ingespan word om doelwitte te bereik. Die doelwitte kan polities, ekonomies of militêr van aard wees. Onder die Trump-administrasie het Amerika onder andere ’n handelsoorlog teen China ingestel, verhoogde tariewe op Chinese produkte aangekondig, die Amerikaanse vloot se teenwoordigheid in die Suid-China See verskerp en China beskuldig van die diefstal van Amerikaanse intellektuele eiendomsregte en inmenging in die Amerikaanse verkiesing van 2020.

China, aan die ander kant, verkry strategiese beheer van belangrike handels- en seeroetes met die GPI, hou ’n direkte bedreiging in vir die Amerikaanse vloot in die Stille Oseaan en Suid-China See, wen groot veld met tegnologiese innovasie en ontwikkeling, is nou bykans op gelyke voet met Amerika in die ruimtewedloop en het teen die einde van 2020 meer strategiese vennootskappe met lande in die wêreld gesluit as Amerika.

Mag in strategiese terme is die vermoë om die aksies en besluite van ander rolspelers te domineer. Soos aangedui deur die voorbeelde hierbo, slaag beide lande daarin om die hulpbronne effektief te mobiliseer vir die bereiking van strategiese oorwinnings. Onder sekere omstandighede kan state ’n invloedsfeer of ekonomiese blok skep in die streke waarin hulle ’n oorheersende invloed het. In Afrika slaag China goed daarin om ekonomiese mag uit te oefen, terwyl Amerika weer militêre invloed deur middel van AFRICOM uitoefen. State wat oor die vermoë beskik om militêre, ekonomiese en kulturele hulpbronne oor te skakel na die gebruik van mag om internasionale doelwitte te bereik, word deur IV-spesialiste beskou as grootmoondhede. Die internasionale gemeenskap sal dan ook erkenning aan die grootmoondhede gee vir die gebruik van die hulpbronne (Danilovic 2002).

4.2 Die NVS en IV-teorie

Die strategie in die NVS lê sterk klem op resultate en nie op ideologie nie. Dit is ’n strategie van beginselvaste realisme, omrede dit erkenning gee aan die sentrale rol van mag in die internasionale politiek, bevestig dat soewereine state die beste hoop op vrede in die wêreld is en die nasionale veiligheidsdoelwitte van Amerika in duidelike terme uitspel (Torrence 2018). Die fokus van die NVS is ook om begrip vir die kulture van ander lande te ontwikkel en dan in samewerking met Amerika oplossings vir konflik en onstabiliteit te vind.

Die 2006-dokument het sterk gefokus op die teorie van demokratiese vrede (“democratic peace theory”). Dié teorie voer aan dat demokratiese lande huiwerig is om met ander demokratiese lande in ’n konflik betrokke te raak en eerder daarna streef om welvaart te deel en infrastruktuur en hulpbronne te bewaar (Wiebrecht 2013:5). President Bush het die teorie voorgehou om samewerking met ander demokrasieë te bevorder, terrorisme te beveg en internasionale veiligheid en stabiliteit te verseker (Zelizer 2010:15).

Die Obama-administrasie se beskrywing van die internasionale sisteem in Kantiaanse terme − ’n internasionale sisteem sonder ’n hegemoniese leier waar ’n “vredesliga” bestaan wat alle oorloë kan beëindig en waar ’n wêreldregering die gedrag van mense en reëls vir lande bepaal − het voortgebou op die liberale internasionale perspektief. Die strategieë van beide Bush en Obama het verklaar dat die verspreiding van demokrasie en die versterking van internasionale instellings vrede en stabiliteit in die internasionale sisteem sal voortbring (Davidson 2015). Presidente Bush en Obama het ander lande aangemoedig om aan te sluit by internasionale organisasies en handel met Amerika uit te brei. Die presidente se buitelandse beleidsaksies het ten doel gehad om vertrouenswaardige verhoudinge met ander rolspelers te skep.

Volgens die huidige NVS is mag histories deur lande nagejaag en die wedywering wat nou plaasvind is ’n voortsetting daarvan (Torrence 2018). “Realism ranks as the most important attempt thus far to isolate and focus on a key variable in political behavior, namely power, and to develop a theory of international relations” (Dougherty en Pfalzgraff 2001:25). ’n Belangrike aspek is Amerika se vermoë om ’n beleid te formuleer wat Amerikaanse mag relatief tot ander lande stel. Dit is ’n kernaanname in realisme en beteken dat Amerika sy magsverhoudinge met ander lande baseer op die krag wat hy op een of meer gebiede van nasionale mag besit. Dié mag sal hy dan tot sy maksimum voordeel aanwend. Geen land kan tans die Amerikaanse weermag se aanvallende vermoëns ewenaar nie en alhoewel China oor sterk verdedigingsvermoëns beskik, is hy nog nie opgewasse om Amerika in ’n oorlog weg van die huis te oorwin nie. Die verkryging van militêre oorheersing is dus die hoofdoelwit van Amerika se verdedigingstrategie.

Alhoewel die grondbeginsels van die NVS in realisme en neorealisme lê, aanvaar dit ook beginsels van konstruktivisme − dit is die fokus op kuturele interaksie tussen lande en die deel van idees, belange en identiteit (wilsoncenter.org.2017). Die NVS verklaar egter dat Amerika nie sy waardes op enige land sal afdwing nie. Alliansies, vennootskappe en koalisies word uit vrye wil en gedeelde belange gebou. Die strewe na wedersydse samewerking is ’n kerndoelwit. Die NVS bevorder ook ’n ontwikkelingsmodel in samehang met lande wat vooruitgang verlang. In dié verband bepaal die kultuur van ’n land watter grondslag vir ekonomiese hulpverlening gelê word (Lee 2018). Die behoefte om ander lande se kulture te verstaan en mag dan daarvolgens te sentreer, is een van die vertrekpunte van konstruktivisme. Die NVS erken dat ander lande nie noodwendig Amerikaanse waardes deel nie en om dié rede werk Amerika aan ’n stelsel waar lande kultuur as vertrekpunt neem om oplossings vir hulle eie probleme te vind (trumpwhitehouse.archives.gov.2017).

Die gevolgtrekking is dat die teoretiese perspektiewe van die NVS op realisme en elemente van konstruktivisme gegrond is. Liberalisme word verwerp omdat streeks- en internasionale organisasies se kollektiewe aard Amerika se dominante posisie en diktering van reëls ondermyn. Die konnektiwiteit van realisme en konstruktivisme versterk die teoretiese grondslag van die NVS en versoen ook die beleid en doelwitte van die regering op ’n internasionale strategiese vlak.

Kenneth Waltz, voorste kenner van neorealisme in IV, verklaar dat state se oorlewing op die internasionale politieke terrein afhang van hulle magsverhouding tot ander state (Waltz (2010:85–90). Waltz voer verder aan dat state se strategieë vir vrede afhanklik moet wees van die vrede- of oorlogstrategie van alle state in die internasionale sisteem. Die NVS neem hierdie stellings as vertrekpunt en verklaar dat China die wêreld wil verander in teenstelling met Amerikaanse waardes en belange. China wil Amerika as die leier in die Indo-Pasifiese streek vervang, wil die trefwydte van sy ekonomiese model uitbrei en streef daarna om die streek ekonomies en polities te beheer (Gearan 2017).

China se patroon van interaksie met ander rolspelers sluit aan by neorealisme. Dit bepaal dat ’n sterk land elemente van nasionale mag gebruik om vennootskappe met ander lande te sluit en alliansies te vorm. Die mag word ook gebruik om ander lande se mag te balanseer (Gearan 2017). Die NVS dui aan dat Amerika verantwoordelik is vir die struktuur van die internasionale sisteem en poog om die doelwitte van ander rolspelers te verstaan ten einde strategieë te ontwikkel. Nóg die 2006- nóg die 2010-dokument het die doelwitte van ander rolspelers bespreek.

Alhoewel die artikel nie Amerika se wedywering met Rusland bespreek nie, het die 2006-dokument voorgeskryf dat demokrasie die beste vir Rusland se politieke stelsel is en sal help om verhoudinge met Amerika te verbeter. Die 2010-dokument het weer verklaar dat Amerika Rusland sal help om die oppergesag van die reg te bevorder, verantwoordbare regeringstrukture in te stel en universele waardes na te volg. Die huidige NVS beklemtoon dat ’n duidelike strategie ten opsigte van Rusland opgestel moet word om militêre aggressie die hoof te bied en sy invloed in Oos-Europa te verminder. Dit is in teenstelling met die vorige twee dokumente wat gefokus het op internasionale samewerking en die bevordering van demokrasie (Cordesman 2017).

4.3 China se sienings oor IV-teorie

Chinese spesialiste is dit eens dat die ontwikkeling van IV-teorie ’n unieke karakter aan die land se perspektiewe oor internasionale verhoudinge kan gee. Die teoretiese perspektiewe kan konflik en samewerking met ander lande verklaar en ook meer lig werp op watter benaderings gevolg moet word om verhoudinge met Amerika te bestuur. Wat opval, is dat die ontwikkeling van ’n Chinese IV-benadering daartoe kan lei dat Chinese nasionale belange aan die internasionale gemeenskap verkondig word. In die konteks van wedywering met Amerika is dit ook van belang om strategiese doelwitte daar te stel wat Amerikaanse invloed kan teenstaan.

Die kern van die Chinese benadering fokus op drie aspekte: identiteit, toe-eiening en aanpassing (Tze 2019:2–3). Dit beteken China moet ’n internasionale identiteit ontwikkel, die identiteit moet hulle eie word en lande sal moet aanpas by die Chinese identiteit. In wese dui dit op ’n vrymaking van ander lande se teoretiese invloed en die vestiging van ’n Chinees-gesentreerde IV-teorie. Die werk van die Amerikaanse skrywer Alexander Wendt is die fokus van groot belangstelling onder Chinese IV-spesialiste. Sy boek A social theory of international politics word gevolg vir die bydraes wat dit maak om idees, waardes en norme te bevorder. Aan die ander kant, is die belangstelling in konstruktivisme ook gedeeltelik gegrond op ’n afkeer van realisme en liberalisme as die hoofstroomdenkrigtings wat deur Amerikaanse IV-spesialiste gevolg word (Tze 2019:4–5).

China se sienings oor die internasionale orde geniet ook aandag. Die liberale internasionale orde wat deur Amerika en Westerse demokrasieë geskep is, word as ’n bedreiging vir die kommunistiese ideologie en die voortbestaan van die eenpartystaat in China gesien. Die huidige internasionale orde poog om China van buite die land te demokratiseer en volgens Chinese kenners staan Amerika aan die hoof van die pogings. In teenstelling met die Amerikaanse model wil China ’n wêreld bou wat regverdig, gelyk en verteenwoordigend van alle lande se politieke en ekonomiese ordes is (Chan 1999).

Ten opsigte van wedywering met Amerika word die volgende benaderings uitgelig: Die eerste benadering is op die denkskool van realisme in IV gegrond en wys op die magsverhoudinge tussen die twee lande. Amerikaans-Chinese strategiese wedywering moet gesien word as ’n natuurlike uitkoms van die veranderende verdeling van mag in die internasionale sisteem en Amerika moet die transformasie van mag aanvaar (Zhao 2019:373–4).

Die tweede benadering beklemtoon ’n verskil in waarnemings van beide die Amerikaners en Chinese oor mekaar se internasionale ambisies. Die verskuiwende internasionale orde en veranderinge in die plaaslike politieke en ekonomiese klimaat verhoog internasionale onsekerheid. Amerikaners is agterdogtig oor China se internasionale ambisies en verkondig nog steeds die Chinesebedreigingsteorie, terwyl China vrede, harmonie en samewerking nastreef en dit alles doen om welvaart en voorspoed vir sy burgers te verseker (Zhao 2019:375–6).

Die derde benadering gee meer aandag aan Amerika en China se ideologiese verskille. Amerika sien China as ’n outoritêre staat en voer aan dat die Chinese ideologie indruis teen Amerikaanse waardes en ideale, terwyl Chinese spesialiste aanvoer dat die ideologie help met China se ekonomiese oplewing, die modernisasie van sy weermag en die groot herlewing van die Chinese nasie met eienskappe van sosialisme (Zhao 2018:34–5).

Die vierde benadering beskou ’n verskil in die beleidsagendas van die twee lande as ’n hoofaandrywer van die wedywering. Chinese spesialiste is dit eens dat Amerikaanse strategiese doelwitte teenstrydig is met China se doelwitte. Dit is veral opmerklik in die twee lande se beleid in die Asië-Pasifiese streek. Amerika sien homself as die beskermheer van die streek en China as die uitdager van die streeksorde wat deur Amerika vasgestel is. China voer aan dat die Suid-China See historiese gebiedswaters van China is en hulle ’n reg het om beheer oor die waters uit te oefen. Dit is ’n gebied van groot konflik tussen die twee lande (Yuan 2014:5–6). 

Tabel 1. Amerikaans-Chinese betrokkenheid in Afrika: ’n Tydlyn van die belangrikste gebeure en ontwikkelings

Amerika China
President George W. Bush
2001−9
• Millennium Challenge Corporation (MCC) 2003
• Noodplan vir VIGS-verligting (PEPFAR) 2004
• Malaria-Inisiatief (PMI) 2004
• Amerikaanse Afrika- Militêre Beheersentrum (AFRICOM) 2007
President Jiang Zemin 1993−2003 • Forum vir China-Afrika-samewerking (FOCAC) 2000
Barack Obama
2009−17
• Amerika se Strategie vir die Bekamping van Terrorisme en Ekstremisme in  sub-Sahara-Afrika 2012
• Amerika-Afrika-Leierskapsforum 2014
a. Kragvoorsiening Afrika-Inisiatief 2014
b. Handel Afrika-Inisiatief 2014
c. Jong Afrikaleiers-Inisiatief (YALI) 2014
Hu Jintao 2003−13 • 2e Ministeriële FOCAC-Konferensie, Etiopië 2003
• China-Afrikabeleidsdokument 2006
• 4de Ministeriële FOCAC-Konferensie, Egipte 2009
Donald Trump
2017−21
• Afrika Welvaart-Inisiatief 2018
• Wet op Beter Aanwending van Beleggings en Ontwikkeling (BUILD act) 2018
Xi Jinping 2013 tot tans • 6e Ministeriële FOCAC-Konferensie, Suid-Afrika 2015
a) Finansiële beleggings: 60 miljoen Amerikaanse dollar
b) Voorkeurlenings op uitvoere: 35 miljoen Amerikaanse dollar
c) Addisionele kapitaal vir die ontwikkeling van Afrika: 5 miljoen Amerikaanse dollar
d) Befondsing van die Afrika-gereedheidsweermag en Teenreaksie-eenheid: 60 miljoen Amerikaanse dollar
• Nuwe China-Afrika-beleidsdokument 2015
• Gordel-enpadinisiatief (GPI) 2015
• Implementering van die China-Afrika-Veiligheidsinisiatief 2019

 

’n Tydlyn van die belangrikste gebeure en ontwikkelings in Amerika en China se betrokkenheid in Afrika word in tabel 1 verskaf. Amerika formuleer spesifieke beleidsraamwerke om ekonomiese, sosiale en veiligheidskwessies aan te spreek, terwyl China die Forum vir China-Afrika-samewerking gebruik om ekonomiese programme en aksies te loods. China het opnuut tot Afrika toegetree in die jaar 2000 met die bekendstelling van die forum. Die rede daarvoor was om bilaterale verhoudinge met Afrikalande te versterk as gevolg van die land se uitwaartse buitelandse beleid (“going out policy”). Afrika is in die proses geteiken as ’n gebied waar China meer invloed kon uitoefen. Die verkryging van natuurlike hulpbronne, betrokkenheid in vredesendings en kulturele invloed is verdere redes. Amerika het deurgaans ’n teenwoordigheid in Afrika gehandhaaf tydens die Koue Oorlog, hoofsaaklik om Westerse ekonomiese beginsels en demokrasie te bevorder. Na die terrorismeaanval op 11 September 2001 het die fokus ook geskuif na die bekamping van terrorisme en ekstremisme, vandaar die totstandkoming van AFRICOM in 2007. Die twee lande se verskillende benaderings in die implementering van ekonomiese programme soos aangedui in die figuur, staan uit as ’n hoogtepunt van die wedywering in Afrika.

 

5. Gevolgtrekking

’n Belangrike gevolgtrekking is dat die besluit van die Amerikaanse administrasie om sy betrokkenheid in Afrika af te skaal die deur vir China oopmaak om voort te gaan met sy besigheidspraktyke. Alhoewel daar kritiek uit verskeie oorde is oor China se ongeoorloofde aksies, en dit al vir baie jare voortduur, is daar nie veel wat Amerika aan die situasie kan doen nie. China se rol in Afrika is nou eenvoudig te groot. ’n Struikelblok is om die groot bedrae geld wat China aan Afrikalande leen, te ewenaar. Die doelwitte soos beskryf in die NVS is ook nie van veel waarde as daar nie ’n finansiële element toegevoeg is nie. Oor die afgelope dekades het Amerika hulpverleningsprogramme van stapel gestuur om Afrikalande se sosioëkonomiese omstandighede te verbeter en is daar suksesse behaal. Aan die ander kant behaal China groot suksesse met sy ekonomiese diplomasie en instrumente van sagte mag, wat die mededingende voordeel in China se guns laat swaai. Die PAI hou egter groot belofte in en kan Amerika weer sy rol as ’n belangrike ekonomiese en strategiese vennoot laat inneem.

Die Amerikaanse regering wedywer met China vir voordeel, sluit tydelike vennootskappe met ander lande rondom gedeelde belange en gebruik realisme as basis waarop die internasionale orde gebou word. Realisme fokus op die relatiewe voordeel wat samewerking vir Amerika inhou. Die hoofdoelwit is om die magsvertoon van China teen te staan en dit kan bereik word deur terug te keer na strategiese magspel en die gebruik van al die instrumente van nasionale mag. Amerika kan die geopolitieke magspel wen deur sy ekonomiese welvarendheid en tegnologiese leierskap te wys.

Chinese kenners op die gebied van Sino-Amerikaanse verhoudinge stem saam dat Amerikaanse mag en invloed besig is om af te neem. ’n Belangrike punt is dat Amerika gespanne is oor sy eie internasionale posisie en gevolglik China se opkoms as grootmoondheid wil ondermyn. Wedywering is ook die gevolg van ernstige wanopvattings oor die sogenaamde Chinesebedreigingsteorie. Onder die Trump-administrasie is die idee weer na vore gebring, maar dit word deur die Chinese regering as onwaar bestempel. Die Chinese regering streef na wedersydse samewerking en wil graag positiewe verhoudinge bevorder. Die verwagting bestaan dat Amerika se beleid teenoor China nie in die ampstermyn van president Biden gaan verander nie. Ten opsigte van Afrika gaan China voortgaan om die GPI te bevorder en China beskou die inisiatief nie as ’n direkte bedreiging vir Amerikaanse belange op die kontinent nie.

Die slotopmerkings wys daarop dat Sino-Amerikaanse wedywering besig is om te groei van streekskonflik na internasionale konflik. Hierdie wedywering om invloed neem ideologiese verskille in ag en die fokus is sterker vanaf die Amerikaanse administrasie. Aangesien die twee lande in ’n stryd om militêre oorheersing gewikkel is, beïnvloed die verhoudinge ook internasionale veiligheid. Die strategiese wedywering is veral waarneembaar in China se strewe na oorheersing in die oseane aanliggend aan die Chinese vasteland, dele van die Stille Oseaan en seehandelsroetes in die Indiese Oseaan. Dit skep ’n bedreiging vir die vermoë van die Amerikaanse vloot om die roetes te beskerm en oorheersing uit te oefen. Globale wedywering vir invloed is ook nou verbind met tegnologiese vernuwing en oorheersing in die digitale era. Die strategiese wedywering skep nuwe ekonomiese modelle gebaseer op streekshandelsgroeperings en kan lei tot deglobalisasie en ’n heeltemal nuwe internasionale politieke struktuur. Twee internasionale ordes kan ontstaan: aan die een kant ’n Amerikaanse internasionale orde en aan die ander kant die opkoms van ’n Chinees-gesentreerde ekonomiese en politieke bestel.

 

Bibliografie

Allen, J.R. 2021. To outpace China on technology, the US needs a “full-stack” strategy. 1 Maart. https://thehill.com/opinion/technology/540808-to-outpace-china-on-technology-the-us-needs-a-full-stack-strategy (21 April 2021 geraadpleeg).

Baldwin, D. 2016. Power and international relations: A conceptual approach. Princeton: Princeton University Press.

beltandroad.news.2019. U.S. conglomerate Honeywell sees tremendous opportunities in China. 26 September. https://www.beltandroad.news/u-s-conglomerate-honeywell-sees-tremendous-opportunities-in-china/ (29 Oktober 2020 geraadpleeg).

Brautigam, D. 2009. The Dragon's gift: The real story of China in Africa. Londen: Oxford University.

brookings.edu.2017. Brookings experts on Trump’s National Security Strategy. 21 Desember. https://www.brookings.edu/research/brookings-experts-on-trumps-national-security/ (10 Oktober 2020 geraadpleeg).

cfr.org.2018. To strengthen Trump’s National Security approach, promote human rights. 10 Januarie. https://www.cfr.org/blog/strengthen-trumps-national-security-approach-promote-human-rights (28 November 2020 geraadpleeg).

Chan, G. 1999. Chinese perspectives on international relations: A framework for analysis. Zurich: Springer Nature.

Chen, J. 2019. Third-party model to open more paths on Belt and Road route. https://www.chinadaily.com.cn/a/201904/16/WS5cb56f71a3104842260b67a2.html (25 Oktober 2020 geraadpleeg).

chinafile.com. 2018. Angola: China’s risky gamble in Africa. 16 April. https://www.chinafile.com/library/china-africa-project/angola-chinas-risky-gamble-africa (10 November 2020 geraadpleeg).

Clarke, M. 2020. Is China heading towards revolutionary revisionism? 4 September. https://www.internationalaffairs.org.au/australianoutlook/is-china-heading-towards-revolutionary-revisionism/ (16 April 2021 geraadpleeg).

Coats, D.R. 2018. Worldwide threat assessment of the US intelligence community. 13 Februarie. https://www.dni.gov/files/documents/Newsroom/Testimonies/2018-ATA---Unclassified-SSCI.pdf (20 November 2020 geraadpleeg).

Collins, B. 2010. USA: Status quo or revisionist power? https://www.e-ir.info/2010/10/07/usa-status-quo-or-revisionist-power/ (14 April 2021 geraadpleeg).

Cordesman, A.H. 2017. President Trump's new National Security Strategy. 18 Desember. https://www.csis.org/analysis/president-trumps-new-national-security-strategy (15 Oktober 2020 geraadpleeg).

Daly, K. 2020. The U.S. rift with China has tech on edge. 27 April. https://www.axios.com/the-us-rift-with-china-has-tech-on-edge-a9cf232a-1521-44b9-a99d-e47454a20da1.html (25 April 2021 geraadpleeg).

Danilovic, V. 2002. When the stakes are high: Deterrence and conflict among major powers. Michigan: University of Michigan Press.

Davidson, J. 2015. Obama’s last National Security Strategy. 2 Maart. https://www.foreignaffairs.com/articles/united-states/2015-03-02/obamas-last-national-security-strategy (16 Desember 2020 geraadpleeg).

defense.gov.2018. Summary of the 2018 National Defense Strategy. https://dod.defense.gov/Portals/1/Documents/pubs/2018-National-Defense-Strategy-Summary.pdf (16 April 2021 geraadpleeg).

Dobell, G. 2018. The US and China: Status quo powers in revisionist times. 5 Februarie. https://www.aspistrategist.org.au/us-china-status-quo-powers-revisionist-times/ (16 April 2021 geraadpleeg).

Doffman, Z. 2019. U.S. and China technology conflict – here’s why 2020 is so critical. https://www.forbes.com/sites/zakdoffman/2020/12/29/us-and-china-technology-conflict-heres-why-2020-is-so-critical/?sh=797e5a1f175e (4 Desember 2020 geraadpleeg).

Dougherty, J.E. en R.L. Pfaltzgraff. 2001. Contending theories of international relations: A comprehensive survey. 5de uitgawe. New York: Pearson Education Publishing.

dod.defense.gov. 2018. Summary of the 2018 National Defense Strategy of the United States of America. https://dod.defense.gov/Portals/1/Documents/pubs/2018-National-Defense-Strategy-Summary.pdf (25 November 2020 geraadpleeg).

Dumpis, T. 2021. Prosper Africa: Morocco to become America’s gateway to Africa. 4 Januarie. https://www.moroccoworldnews.com/2021/01/330512/prosper-africa-morocco-to-become-americas-gateway-to-africa/ (25 April 2021 geraadpleeg).

Enderwick, P. 2018. The economic growth and development effects of China’s One Belt One Road Initiative. Strategic Change, 27:447−54.

Flint, C. en X. Zhang. 2016. The belt and road and the innovation of geopolitical theory. Foreign Affairs Review, 33(3):1–24.

Friend, A.H. 2018. U.S. National security and defense goals in Africa: A curious disconnect. 13 Februarie. https://www.csis.org/analysis/us-national-security-and-defense-goals-africa-curious-disconnect (10 September 2020 geraadpleeg).

Garamone, J. 2020. Defense leaders detail how Middle East, Africa fit in U.S. strategy. 10 Maart. https://www.defense.gov/Explore/News/Article/Article/2107974/defense-leaders-detail-how-middle-east-africa-fit-in-us-strategy/ (15 Oktober 2020 geraadpleeg).

Gearan, A. 2017. National security strategy plan paints China, Russia as U.S. competitors. 18 Desember. https://www.washingtonpost.com/politics/national-security-strategy-plan-paints-china-russia-as-us-competitors/2017/12/17/0229f95c-e366-11e7-a65d-1ac0fd7f097e_story.html (22 Desember 2020 geraadpleeg).

Glenn, J. 2019. Five questions for Prosper Africa. 24 Junie. https://www.usglc.org/blog/five-questions-for-prosper-africa/ (30 Julie 2020 geraadpleeg).

Goldstein, A. 2020. US–China rivalry in the twenty-first century: Déjà vu and Cold War II. China International Strategy Review, 2:48–62.

Haifa, S. 2017. NVS outlines a vision for “renewal” of America leadership. 26 Desember. http://www.china.org.cn/opinion/2017-12/26/content_50165417.htm (28 November 2020 geraadpleeg).

Harris, G.T. 2018. China is loaning billions of dollars to African countries. Here's why the U.S. should be worried. 30 Augustus. https://time.com/5381467/china-africa-debt-us-security/ (15 Desember 2020 geraadpleeg).

Hendrix, C.S. 2020. Arms and influence? Chinese arms transfers to Africa in context. 15 Julie. https://www.piie.com/blogs/realtime-economic-issues-watch/arms-and-influence-chinese-arms-transfers-africa-context (20 April 2021 geraadpleeg).

Herman, F. en A. Szanajda. 2013. The role of the Chinese media in establishing common ground between Sino-African philosophical traditions: A case study on peacekeeping operations. Chinese Studies, 2(1):43–9.

Honeywell.com. 2017. What is the Belt and Road Initiative? 7 September. https://www.honeywell.com/us/en/news/2017/09/what-is-the-belt-and-road-initiative (27 April 2021 geraadpleeg).

Kennedy, P. 1989. The rise and fall of the great powers: Economic change and military conflict from 1500 to 2000. Londen: Fontana.

Ju, H. 2015. China’s maritime power and strategy: History, national security and geopolitics. Singapore: World Scientific Publishing.

Kissinger, H. 1995. Diplomacy. New York: Simon and Schuster.

Lee, C. 2018. Why democracy promotion is in the strategic interest of the United States. 11 September. https://medium.com/truman-doctrine-blog/why-democracy-promotion-is-in-the-strategic-interest-of-the-united-states-ae959c111b2f (26 November 2020 geraadpleeg).

Lim, D. 2019. The US, China and “technology war”. https://globalasia.org/v14no1/cover/the-us-china-and-technology-war_darren-lim (25 April 2021 geraadpleeg).

Lippert, B. en V. Perthes. 2020. Strategic rivalry between United States and China: Causes, trajectories, and implications for Europe. Berlyn: German Institute for International and Security Affairs.

Liu, Y. 2019. GPI opportunity seen for US companies. 18 November. https://global.chinadaily.com.cn/a/201911/18/WS5dd2be3ea310cf3e355782fa.html (10 Oktober 2020 geraadpleeg).

Lukes, S. 2005. Power and the battle for hearts and minds. Millennium, 33(3):477–93.

Mazarr, M.J. 2017. Preserving the post-war order. The Washington Quarterly, 40(2):29–49.

Mazarr, M.J. en A.L. Rhoades, 2018. Testing the value of the postwar international order. Santa Monica, RAND Corporation.

Mc Innis, K.J. 2017. The 2017 National Security Strategy: Issues for Congress. https://fas.org/sgp/crs/natsec/IN10842.pdf (1 Oktober 2020 geraadpleeg).

McMaster, H.R. en G.D. Cohn. 2017. America First Doesn’t Mean America Alone. 30 November. https://www.wsj.com/articles/america-first-doesnt-mean-america-alone-1496187426 (12 Oktober 2020 geraadpleeg).

Men, H. 2020. China’s grand strategy: A framework analysis. Zurich: Springer Nature.

Morgenthau, H.J. 1993. Politics among nations: The struggle for power and peace. New York: McGraw Hill.

Morgenthau, H.J. 2005. Politics among nations: The struggle for power and peace. New York: McGraw-Hill Education.

Oke, M.O. 2019. Nigeria-China trade relations: Projections for national growth and development. International Journal of Business and Management, 14(11):77–98.

Olander, E. 2020. U.S.-China great power competition in Africa. 13 Julie. https://chinaafricaproject.com/analysis/u-s-china-great-power-competition-in-africa/ (5 November 2020 geraadpleeg).

Ortagus, M. 2020. Forty years of the Southern African Development Community. 17 Augustus. https://za.usembassy.gov/forty-years-of-the-southern-african-development-community/ (16 Oktober 2020 geraadpleeg).

Paquette, D. 2019. Trump administration unveils its new Africa strategy, with wins and snags. 19 June. https://www.washingtonpost.com/world/trump-administration-unveils-its-new-africa-strategy--with-wins-and-snags/2019/06/19/c751be4c-91f5-11e9-956a-88c291ab5c38_story.html (30 Augustus 2020 geraadpleeg).

Poee, T.K. 2017. U.S. Policy towards Africa under Trump. https://americanaffairsjournal.org/2017/10/u-s-policy-towards-africa-trump/#_edn20 (10 September 2020 geraadpleeg).

Qiu, L.D. en W. Xing. 2019. China–US trade: Implications on conflicts. China Economic Journal, 1:1–20.

Roy, D. 2020. China won’t achieve regional hegemony. The Washington Quarterly, 43(1):101–17.

Runde, D.F. en R. Bandura, 2019. U.S. economic engagement in Africa: Making Prosper Africa a reality. Washington DC: Center for Strategic and International Studies.

sadc.int. 2019. SADC and US Embassy discuss issues of cooperation and international relations. 25 Februarie. https://www.sadc.int/news-events/news/sadc-and-us-embassy-discuss-issues-cooperation-and-international-relations/ (15 Oktober 2020 geraadpleeg).

Schweller, R.L en X. Pu, 2011. After unipolarity: China’s visions of international order in an era of U.S. decline. International Security, 36(1):41–72.

Shalal, A. 2020. U.S. must demand transparency of Chinese debt in any debt restructuring deals: senators. 24 April. https://www.reuters.com/article/us-health-coronavirus-debt-usa-idUSKCN2260D9 (16 Desember 2020 geraadpleeg).

Signé, L. en E. Olander, 2019. Can Trump’s Prosper Africa make America greater than China and other partners in Africa? 26 Junie. https://www.brookings.edu/blog/africa-in-focus/2019/06/26/can-trumps-prosper-africa-make-america-greater-than-china-and-other-partners-in-africa/ (15 Augustus 2020 geraadpleeg).

Singh, R.K. en B. Goh. 2018. Caterpillar drives sales on China's new Silk Road. 5 Maart. https://uk.reuters.com/article/us-caterpillar-china-b-r-idUKKBN1GG146 (21 Oktober 2020 geraadpleeg).

sipri.org.2021. SIPRI Arms Transfer Database. 15 Maart. https://www.sipri.org/databases/armstransfers (21 April 2021 geraadpleeg).

Spivak, V. 2019. Russia and China in Africa: Allies or rivals? 25 Oktober. https://carnegie.ru/commentary/80181 (20 April 2021 geraadpleeg).

Spoehr, T.W. 2020. An assessment of U.S. military power. 17 November. https://www.heritage.org/military-strength/assessment-us-military-power/us-army (25 November 2020 geraadpleeg).

Steinbock, D. 2019. America’s New Africa Strategy: US, China, and economic development. 11 Januarie. https://www.foreignpolicyjournal.com/2019/01/11/americas-new-africa-strategy-us-china-and-economic-development/ (8 Augustus 2020 geraadpleeg).

Stone, K. 2018. President Trump Releases Legislative Outline for Infrastructure Plan: Highlights for Counties. 17 Februarie. https://www.naco.org/resources/president-trump-releases-legislative-outline-infrastructure-plan-highlights-counties (21 November 2020 geraadpleeg).

Sukhankin, S. 2020. Chinese private security contractors: New trends and future prospects. 15 Mei. https://jamestown.org/program/chinese-private-security-contractors-new-trends-and-future-prospects/ (1 November 2020 geraadpleeg).

Sun, Y. 2018. American companies and Chinese Belt and Road in Africa. 11 Julie. https://www.brookings.edu/blog/africa-in-focus/2018/07/11/american-companies-and-chinese-belt-and-road-in-africa/ (9 Oktober 2020 geraadpleeg).

Szuba, J. 2020. Africa offers US a “competitive edge” over Russia and China. 31 Januarie. https://www.thedefensepost.com/2020/01/31/us-africa-great-power-competition-townsend-africom/ (15 Desember 2020 geraadpleeg).

Tellis, A.J., A. Szalwinski en M. Wills. 2020. Strategic Asia: U.S.-China competition for global influence. Washington DC: The National Bureau of Asian Research.

The State Council Information Office of the People’s Republic of China. 2019. China’s national defense in the new era. Beijing: Foreign Languages Press Publishers.

Thrall, L. 2015. China’s expanding African relations: Implications for U.S. national security. www.jstor.org/stable/10.7249/j.ctt15zc655 (1 Desember 2020 geraadpleeg).

tn.usembassy.gov, 2020. USAID and the United Bank for Africa sign memorandum of understanding to advance the two-way trade and investment goals of Prosper Africa. 6 Februarie. https://tn.usembassy.gov/usaid-and-the-united-bank-for-africa-sign-memorandum-of-understanding-to-advance-the-two-way-trade-and-investment-goals-of-prosper-africa/ (31 Julie 2020 geraadpleeg).

Torrence, J. 2018. Strengths of the current National Security Strategy. 16 Julie. https://smallwarsjournal.com/jrnl/art/strengths-current-national-security-strategy (10 November 2020 geraadpleeg).

trade.gov.2020. Acting under secretary for international trade Joseph Semsar remarks. 6 Februarie. https://www.trade.gov/feature-article/acting-under-secretary-international-trade-joseph-semsar-remarks-february-6-2020-0 (2 Augustus 2020 geraadpleeg).

trumpwhitehouse.archives.gov. 2017. National Security Strategy of the United States of America. 18 Desember. https://trumpwhitehouse.archives.gov/wp-content/uploads/2017/12/NSS-Final-12-18-2017-0905.pdf (18 Desember 2020 geraadpleeg).

Tze, E.H. 2019. Chinese thinking about international relations: From theory to practice. Asia Policy, 14(3):2–5.

usaid.gov.2020. Highlights from Prosper Africa conference organized by U.S. Embassy, Tunisia & American Chamber of Commerce. 5 Maart. https://www.usaid.gov/documents/1860/highlights-prosper-africa-conference-organized-us-embassy-tunis-american-chamber (20 Julie 2020 geraadpleeg).

—. 2021. Prosper Africa. 25 Maart. https://www.usaid.gov/kenya/documents/feed-future-kenya-investment-mechanism-kim-program (26 April 2021 geraadpleeg).

ustr.gov.2020. Joint statement between the United States and Kenya on the launch of negotiations towards a free trade agreement. July 8. https://ustr.gov/about-us/policy-offices/press-office/press-releases/2020/july/joint-statement-between-united-states-and-kenya-launch-negotiations-towards-free-trade-agreement (20 Julie 2020 geraadpleeg).

Waltz, K. 2010. Theory of international politics. Illinois: Waveland Press.

westafricatradehub.com.2021. West Africa Trade and Investment Hub. https://westafricatradehub.com/ (26 April 2021 geraadpleeg).

Wiebrecht, F. 2013. Democratic peace theory. München: GRIN Publishers.

wilsoncenter.org.2020. The Trump Administration and U.S. Africa Policy: What has been accomplished and what lies ahead? 3 Maart. https://www.wilsoncenter.org/event/trump-administration-and-us-africa-policy-what-has-been-accomplished-and-what-lies-ahead (20 Julie 2020 geraadpleeg).

Wilkins, S. 2020. Does America need an African strategy? 2 April. https://warontherocks.com/2020/04/does-america-need-an-africa-strategy/ (10 Oktober 2020 geraadpleeg).

Wilson, J.L. 2019. Are China and Russia revisionist states? 6 November. https://theasiadialogue.com/2019/06/11/are-russia-and-china-revisionist-states/ (15 April 2021 geraadpleeg).

wilsoncenter.org.2017. Trump National Security Strategy. https://www.wilsoncenter.org/article/trump-national-security-strategy (11 Oktober 2020 geraadpleeg).

Wolfers, A. 2014. Discord and collaboration: Essays on international politics. Charleston: Nabu Press.

worldcat.org. 2018. Summary of the 2018 national defense strategy of the United States of America: Sharpening the American military's competitive edge. https://www.worldcat.org/title/summary-of-the-2018-national-defense-strategy-of-the-united-states-of-america-sharpening-the-american-militarys-competitive-edge/oclc/1022563224 (27 November 2020 geraadpleeg).

wsj.com.2017. The Trump doctrine, in theory. 18 Desember. https://www.wsj.com/articles/the-trump-doctrine-in-theory-1513642862 (11 Oktober 2020 geraadpleeg).

Wu, S. 2020. The U.S. vs. China: The high cost of the technology cold war. 22 Oktober. https://www.wsj.com/articles/the-u-s-vs-china-the-high-cost-of-the-technology-cold-war-11603397438 (5 Desember 2020 geraadpleeg).

Wu, X. 2020. Technology, power, and uncontrolled great power strategic competition between China and the United States. China International Strategic Review, 2:99–110.

xinhuanet.com. 2020. Xinhua Headlines: China-Africa cooperation continues to flourish as FOCAC marks 20th anniversary. 13 Oktober. http://www.xinhuanet.com/english/2020-10/13/c_139437656.htm (5 November 2020 geraadpleeg).

Yachyshen, D. 2020. Great power competition and the scramble for Africa. 30 April. https://www.fpri.org/article/2020/04/great-power-competition-and-the-scramble-for-africa/ (10 Desember 2020 geraadpleeg).

Yuan, P. 2014. China’s new reforms and the new type of Sino-US relations. Contemporary International Relations, 11:1–6.

Zelizer, J. 2010. The presidency of George W. Bush. Princeton: Princeton University Press.

Zhao, M. 2018. The Trump doctrine and the strategic transformation of US-China relations. The Chinese Journal of American Studies, 5:34–70.

—. 2019. Is a new Cold War inevitable? Chinese perspectives on US-China strategic competition. The Chinese Journal of International Politics, 12(3):371–94.

Zelleke, A. 2020. What is the end game of US-China Competition?. 3 November. https://thediplomat.com/2020/11/what-is-the-end-game-of-us-china-competition/ (30 November 2020 geraadpleeg).

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Amerikaans-Chinese wedywering: ’n Sistemiese en teoretiese ontleding appeared first on LitNet.

Identiteitspolitiek: Sukses, paradoks en onvoorsiene gevolge

$
0
0

Identiteitspolitiek: Sukses, paradoks en onvoorsiene gevolge

Bernard Lategan, Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing en die Departement Inligtingkunde, Universiteit Stellenbosch

LitNet Akademies Jaargang 18(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Om daarop aanspraak te maak dat jy behoort en om jou kleim af te steek, is om verdeeldheid aan te vuur. Om die reis egter met ander te onderneem, om die een of ander vorm van samewerking te probeer bewerkstellig – so kan jy opnuut begin vra hoe jy moontlik sou kon behoort. – David Kramer1

 

Opsomming

Die artikel ondersoek die onderliggende redes vir die sukses van identiteitspolitiek (IP) wat in die jongste tyd wêreldwyd met welslae toegepas word – nie slegs in “linkse” kringe nie, maar ook in “regses”. IP word egter ook gekenmerk deur teenstrydighede en onvoorsiene gevolge wat veral sosiale verbrokkeling tot gevolg het. ’n Belangrike rede hiervoor is die keuse vir ’n strategie van uitsluiting en vernouing, wat toenemende isolasie en die ontwikkeling van ’n weerstandsidentiteit in die hand werk.

Aan die hand van vier uiteenlopende voorbeelde (die Proud Boys, Economic Freedom Fighters, sekere tendense in die feministiese beweging en Solidariteit) word die werkwyse van hierdie benadering ontleed. ’n Belangrike faktor wat dikwels buite rekening gelaat word, is die invloed van magsverhoudinge, asook die effek van deurleefde ervaring. Nogtans kan IP nie aan die groter konteks waarbinne hierdie strategie toegepas word, ontsnap nie. Hoeseer hierdie groepe na binne gerig bly en op eie krag wil staatmaak, is hulle steeds – ironies genoeg – vir die erkenning van hul identiteit en vir die realisering van hulle aansprake op ander aangewese. Die interafhanklikheid van die menslike samelewing is die groter konteks en die werklikheid wat ook vir IP geld.

Gevolglik word ’n alternatiewe benadering voorgestel. Eerder as om die krag van identiteit te onderdruk of te ontken, moet dit as ’n positiewe faktor benut word. Dit is alleen moontlik as ’n radikaal veranderde identiteitsbegrip ontwikkel word wat die rigting van oriëntasie van ’n na-binne-gerigtheid na ’n na-buite-gerigtheid omkeer en wat insluiting eerder as uitsluiting as vertrekpunt neem. Die “onvolledigheid” van die menslike bestaan beklemtoon nie alleen die afhanklikheid van ander nie, maar vereis sowel die interne as die eksterne verruiming van identiteit. Daarby moet die funksie van identiteit self verbreed word om nie slegs weerstand te bied en te verdedig nie, maar om die skeppende en verruimende moontlikhede van identiteit in ’n wyer konteks te ontgin tot voordeel van die samelewing in sy geheel.

Trefwoorde: deurleefde ervaring; eksogene en endogene identiteit; identiteit; identiteitspolitiek; identiteitsvorming; mag en magsverhoudinge; onbedoelde gevolge; sosiale verbrokkeling; onbedoelde gevolge; verruimde identiteit

 

Abstract

Identity politics: Success, paradox and unintended consequences 

Identity politics is one of the most prominent phenomena of recent times. As a strategy it has been applied with considerable success across the political spectrum and in many sectors of society. However, the theory and practice of this approach is not without contradictions, paradoxes and unintended consequences. The purpose of this article is to analyse some of these incongruities and repercussions and to propose an alternative approach.

The term identity politics (IP) refers to a wide variety of theoretical approaches and political strategies flowing from experiences of exclusion and injustice by minority groups in society. The aim of these groups is not to be accepted by and assimilated into society as a whole, but to challenge the status quo by mobilising on the very grounds which make the group different. Their specific identity is used “as a tool to frame political claims, promote political ideologies, or stimulate and orient social and political action, usually in a larger context of inequality or injustice and with the aim of asserting group distinctiveness and belonging and gaining power and recognition” (Neofotistos 2013:1).

Although initially developed by left-wing groups like the human rights movement, IP is currently being used by a wide variety of collectives across the political spectrum, including far-right organisations. Its almost universal spread is made possible by the fact that the common denominator is not the specific interest of the group (be it race, gender, sexual orientation, class or philosophy), but rather the experience of injustice, exclusion and loss of power. The kind of identity formation is therefore one of “resistance identity”, where notions of exclusion, isolation and of “going it alone” are prevalent.

These tendencies are strengthened by the fact that human consciousness itself depends on separation and distinction, that is, on becoming aware that I am somebody in my own right, different and separate from others. The irony – and part of a series of paradoxes and contradictions – is that the consciousness of being separate depends on the presence of others from whom one distinguishes oneself. Furthermore, the respect and recognition demanded by the group can only be provided by the “other”. And for the effective implementation of their policies the IP group is dependent on “external” forces like constitutionally guaranteed rights or the legal system. The coveted “separateness” of the group is therefore always relative and embedded in a wider social reality which the group cannot escape.

The Achilles heel of IP remains its propensity for fragmentation coupled with its negative effect on social cohesion. The consequences of this tendency can be illustrated with reference to four, widely differing, examples: the far-right Proud Boys of the USA and Canada with its wide scope of “anti” attitude and its propagation of physical violence as illustrated by the assault on the Capitol in Washington; the Economic Freedom Fighters in South Africa at the other end of the political spectrum, operating within a constitutional system which they plan to overthrow and replace with a “dictatorship of the people in place of the dictatorship of the bourgeoisie”; the shift from an inclusive to an exclusive approach within the feminist movement during the 1980s; and the systematic development of an “alternative state within the state” by the Solidarity movement, moving away from the political sphere and concentrating on civil society.

Are these unintended consequences of IP avoidable? Does this approach inevitably lead to increased levels of contraction and isolation, polarisation and confrontation, ongoing fragmentation and loss of social cohesion, with reactions ranging from looking for alternative forms of state formation to violent occupation and even terror?

In looking for answers, two important factors are often ignored, namely the role of power and the issue of lived experience. McNay warns against retreating to an abstract, theoretical level where “universal” rules of engagement (à la Habermas) are propounded. The impact of power and power relations in the form of hierarchies, domination and powerlessness must be taken into account. Identity does not relate only to abstract status of formal rights, but also to lived experience. “Relations of power shape and distort embodied experience in ways that often elude the individual and therefore restrict the ability to narrate a coherent account of self” (McNay 2008:116). This raises the thorny question of who can speak for whom, which can lead to further levels of exclusion, even within the own group.

Is an alternative approach possible?

The first step in this direction would be to acknowledge and celebrate the power, necessity and potential of identity. Lived and historically rooted identities are “at the source of the creation of meaning, are stronger than ever everywhere, as a counterpart to the global flows of capital and communication that attempt to overwhelm the specificity of every human community” (Castells and Lategan 2021:1). Attempts to suppress identity for the sake of society as a whole or for the “common good” are doomed to fail.

What is required is not the downplaying of identity, but a radically transformed concept identity – radical in the sense that inclusion, not exclusion is taken as the point of departure but also serves as the goal.

But if identity depends on difference, distinction and separation, are we not facing an insoluble contradiction?

Although identity may depend on difference and consciousness of self, the formation of self-identity is possible only within a larger context and in interaction with others. The self is ontologically dependent on the other. What we are encountering here is the fundamental incompleteness of the human condition. Nyamnjoh has made incompleteness a central theme of his work – “not as a negative attribute of being, but as something to embrace and celebrate, as we, in all humility seek to act and interact with one another, with the things we create to extend ourselves, and with the natural and supernatural worlds relevant to our sense of being and becoming. To recognise and provide for incompleteness is not to plead guilty, inadequate and helplessness vis-à-vis the supposedly complete others. Instead, incompleteness is a disposition that enables us to act in particular ways to achieve our ends in a world or universe of myriad interconnections of sentient incomplete beings and actors, human and non-human, natural and supernatural, amenable and not amenable to perception through our senses” (Nyamnjoh 2021:1).

Incompleteness implies mobility and change at the same time. Instead of stagnation and isolation, the self is in need of expansion and extension – firstly internally by widening the horizon of the own existence, welcoming what is new and strange and searching for alternative possibilities; secondly externally through broadening by reaching out, forging alliances, crossing borders, expanding existence in interaction with others – all on the basis of a dynamic and virile own identity.

Identity thus offers a space in which alternatives for the self and for the world can be imagined, designed and tested. However, in order to achieve this, a third form of expansion is needed, namely of the role of identity itself. Instead of serving a restrictive and passive function, identity has an active, creative, constructive and rejuvenating contribution to make. Identity is not only fluid and changing, but also an experimental space where other possibilities for the self and for the word can be investigated and tested.

To realise these alternatives the power, assent and persuasion of others are needed.

An expanded self-consciousness and an understanding of the interdependent nature of the power game do not mean the end of opposition, struggle and competition, but place these in a wider context which enhances the chances for constructive results. A dynamic, creative sense of identity as well as a strong sense of human interdependence are required.

The power of identity always runs the risk of contraction and being reduced to resistance. The challenge is to harness this power to play a larger role in a wider context to the benefit of society as a whole. 

Keywords: extended identity; identity; identity formation; identity politics; inclusion and exclusion; lived experience; power and power relations; social cohesion; unintended consequences

 

1. Inleiding

David Kramer lê sy vinger op die pols van ’n probleem wat tans wêreldwyd ’n groot uitdaging geword het: Hoe om jou kleim af te steek, maar hoe om dit in samewerking met ander reg te kry.

Identiteitspolitiek het die afgelope vyftig jaar ongekende sukses behaal. Daar is min strategieë wat op soveel terreine van die samelewing met soveel welslae toegepas word. Tog is die teorie en praktyk van hierdie benadering nie sonder paradoks en ironie nie – wat op hul beurt weer aanleiding gee tot onvoorsiene gevolge en onopgeloste teenstrydighede. Die doel van hierdie artikel is om sommige van hierdie gevolge en teenstrydighede te ontleed en om ’n alternatiewe benadering voor te stel.

Die term identiteitspolitiek (voortaan IP) dui gewoonlik op ’n wye verskeidenheid van teoretiese begrondinge en politieke strategieë wat voortspruit uit minderheidsgroepe se ervarings van onreg en uitsluiting in die samelewing. Deur die aard en oorsaak van hierdie uitsluiting te analiseer word strategieë ontwikkel om die status quo uit te daag en te verander. In plaas daarvan om die negatiewe status wat die samelewing aan die betrokke groep toeskryf, eenvoudig te aanvaar, word dit herdefinieer, aangegryp en as mobiliseringsbasis benut. Identiteit word gebruik “as a tool to frame political claims, promote political ideologies, or stimulate and orient social and political action, usually in a larger context of inequality or injustice and with the aim of asserting group distinctiveness and belonging and gaining power and recognition” (Neofotistos 2013:1).

Omdat die voorstanders van hierdie benadering vertroue in bestaande stelsels en instrumente (soos politieke partye, handveste of geloofsgemeenskappe) verloor het, word IP gewoonlik buite hierdie strukture bedryf. Soos Kruks verduidelik, is die verskil met gangbare politieke prosesse daarin geleë dat IP juis hul aansprake op dáárdie aspek baseer wat die groep tot dusver uitgesluit het – dit is ás vroue, swart mense, lesbiërs, ens. dat erkenning geëis word. “The demand is not for inclusion within the fold of ‘universal humankind’ on the basis of shared attributes; nor is it for respect ‘in spite of’ one’s differences. Rather, what is demanded is respect for oneself, as different” (Kruks 2001:85).

Die reikwydte van IP en die terreine waarop dit toegepas word, is haas onoorskoubaar. Die basis vir IP-aansprake kan wissel van ras, etnisiteit, geslag, gender en seksuele oriëntasie tot ouderdom, (ekonomiese) klas, verskillende grade van gestremdheid, opleidingsvlakke, godsdiens, taal of geografiese gebied. Die gebruik daarvan strek ook oor die hele politieke spektrum. Hoewel IP aanvanklik veral deur linksgeoriënteerde groeperings soos die feministiese, LGBTQ-, bevrydings- en menseregtebewegings as voorkeurstrategie benut is, het konserwatiewe en regse groepe dit in die jongste tyd ook as ’n uiters effektiewe metode ontdek. Voorbeelde hiervan is die verrassende opgang van regse politieke strominge in die VSA, Europa en elders, verskeie separatistiese bewegings in Skotland, Quebec, Katalonië, Palestina, Kameroen en Soedan (om enkele voorbeelde te noem), en ook godsdienstige groeperings wat strek van konserwatiewe Christelike gemeenskappe tot radikale Islamitiese bewegings. Ironies genoeg sluit dit ’n vorm van herleefde “wit” IP in wat so ver strek as Australië (McLean 1998), maar wat veral die Trump-era in die VSA kenmerk (Bronstein 2019; Smith 2019). In Suid-Afrika bied Solidariteit ’n interessante voorbeeld, wat egter op ’n heeltemal ander wyse en met die gebruik van ’n eiesoortige strategie ontwikkel het, soos hier onder verduidelik sal word.

Hier vind ons reeds ’n eerste voorbeeld van die ironie wat IP deurgaans kenmerk – ’n strategie van linkse oorsprong en ingesteldheid wat ewe behendig deur regse groepe benut word. Die rede vir hierdie skynbare teenstrydigheid is dat die kenmerk wat alle vorme van IP deel, nie ras, gender, seksuele oriëntasie, klas of politieke filosofie is nie. Dit is eerder die ervaring van verontregting, van uitsluiting en van magsverlies wat deur al hierdie verskillende groepe beleef word, hoeseer hulle andersins van mekaar mag verskil. Dit is hierdie generiese kenmerk wat universeel eerder as partikulier is en wat IP ’n aantreklike strategie dwarsoor die politieke spektrum maak, al het dit sy historiese oorsprong in “linkse” of “bevryding”-kringe.

Die skynbaar ingebore behoefte aan onderskeiding en om afstand te neem word verder verdiep as dit met die ontwikkeling van elke individu se selfbewussyn in verband gebring word. Om iemand te kan wees, om jouself te kan wees, impliseer dat jy jou van ander onderskei. Dit is die essensie van self-bewussyn, dit wil sê om bewus te wees dat jy jy is en nie iemand anders nie. Terselfdertyd is hierdie bewussyn die oorsprong van diversiteit. Dit roep die vraag na vore of die aandrang op erkenning van jou identiteit in wese ’n vorm van verset is, met ander woorde die stel van jouself teenoor en in onderskeiding van ander – en wat dus onvermydelik skeiding impliseer. Dit sou die geval kon wees slegs as hierdie (onder)skeiding as eindpunt, as deel van ’n binêre teenstelling, as ’n óf ... óf-keuse bedink word.

Hier duik die eerste paradoks op: Die skeiding en die vorming van ’n eie identiteit kan nie sonder die hulp en deelname van ander gebeur nie. Weick (1995:21–2) verduidelik hoe ons selfbeeld tot ’n groot mate gevorm word deur die beeld wat ander van ons het. Die idealisering van die alleen-weg, van “going it alone” wat dikwels met identiteitsvorming verbind word, berus op ’n illusie en kan op die ou end nie volgehou word nie. Dit gaan met ’n verdere vorm van ironie gepaard: Hoe meer IP-groepe hul van ander wil afskei, hoe meer afhanklik word hulle van ander. Trouens – soos later aangevoer sal word – dit is slegs met die medewerking van die ander, of van die meerderheid, of van die heersende maghebbers dat die erkenning en regte van die benadeelde groep tot uitvoering kan kom.

Dit is egter nie die einde van die reeks van teenstrydighede, paradokse en ironieë nie. Die uitsluiting wat die IP-groep ervaar, word soms deur die groep self geradikaliseer deurdat slegs diegene wat dieselfde ervaring meegemaak het, toegelaat word om deel te neem, na geluister word en as bevoeg beskou word om ’n mening uit te spreek. Die uitsluiting wat in die eerste plek aanleiding gegee het tot die ontstaan van die groep, word opgevolg met ’n verdere, meer radikale vorm van uitsluiting, waarby enigeen wat nie die betrokke ervaring persoonlik deurleef het nie, gediskwalifiseer en deelname ontsê word.

Hierdie verstrengeling van positiewe en negatiewe kenmerke dwing ons om dieper te delf en verby die skynbaar onstuitbare toename van IP-groepe en die gepaardgaande versplintering van die samelewing te kyk om tot die kern van die probleem te probeer deurdring. Wat is die “oerkrag” wat hier aan die werk is? Die drang om te wees? Maar dan weer eens: Kan ek bestaan sonder om myself te wees, om bewus te word dat ek ek is, in onderskeid van ander? Beteken om te wees in essensie om (af)geskei te wees?

’n Verdere probleem is dat identiteit as sodanig dikwels met die eis van erkenning (vgl. McNay 2008; Fukuyama 2018) en respek vir die betrokke identiteit verbind word. Maar wie is die subjek van hierdie erkenning en respektering? Duidelik: die “ander”! Dus bly die individu of groep vir die vervulling van hul diepste behoefte afhanklik van die ander, berus al hul pogings om hul van ander te onderskei, om anders te wees, op die bereidheid van ander om hierdie onderskeidings te erken en te eerbiedig. Hierdie wederkerigheid kan nie willekeurig ontknoop word nie. Elke groep of enkeling impliseer en veronderstel die ander.

Identiteit bly dus een van die mees boeiende aspekte van ons menslike bestaan. Nie alleen speel dit ’n onmisbare rol in die ontwikkeling van elke mens nie, maar beskik dit ook oor ongekende sosiale mobiliseringskrag. Daarby het dit – soos baie ander menslike eienskappe – ’n inherente tweekantigheid in die sin dat dit ten goede of ten kwade aangewend kan word. Terwyl positiewe identiteitsvorming van deurslaggewende belang vir gesonde persoonsontwikkeling en vir sosiale samehorigheid kan wees, kan dit ook die basis vorm vir oorheersing, diskriminasie en verontregting. Geen wonder dat identiteit ook ’n sterk emosionele lading dra wat beide positiewe en negatiewe assosiasies kan oproep nie.

Identiteit blyk ook ’n soort van kanniedood-karakter te hê. Hoewel dit soms minder prominent in die sosiale en politieke diskoers van ’n bepaalde era is, keer dit op ander tye met mening en met ’n nuwe dringendheid terug. In hierdie artikel val die soeklig op die afgelope vier dekades en die heel nuwe dimensie van identiteit wat die golf van globalisering na vore gebring het. Hierdie onlangse verwikkelinge vorm die agtergrond van ons bespreking van één spesifieke vorm van identiteitsvorming en die implikasies daarvan, naamlik identiteitspolitiek.

 

2. Teenstrydighede en onopgeloste vrae

IP word gekenmerk deur ’n reeks van teenstrydighede, paradokse en onopgeloste vrae.

Die eerste geld die onderskeid (maar ironies genoeg ook die ooreenkomste) tussen individuele en groepsidentiteit. Gewoonlik word van verskillende strategieë gebruik gemaak in die vorming van hierdie twee soorte identiteit. In die geval van groeps- of sosiale identiteit is interne samehorigheid ’n belangrike prioriteit wat deur ’n proses van gelykskakeling bereik word. Verskille word onderbeklemtoon of genegeer en die nadruk val op die eenvormigheid van die groep. Individuele identiteitsvorming, daarenteen, gebruik ’n strategie van differensiasie deurdat die profiel van die individu gevorm word in teenstelling tot ander lede van die groep en op grond van die spesifieke rol(le) waarmee die individu hom of haar vereenselwig. Die groep bestaan uit ’n versameling van onderling verbonde individue, waarbinne die laasgenoemde egter bepaalde funksies vervul en waar die voorwaardes vir die interaksie met ander lede van die groep op onderhandeling berus (Stetson en Burke 2000:228).

Dit beteken dat individuele-identiteitsteorie ’n uiteenlopende (divergerende) en sosiale-identiteitsteorie ’n saambindende (konvergerende) tendens vertoon. Dit word veral duidelik wanneer daar ooreenkomstig die gekose of toegeëiende identiteit in konkrete situasies opgetree word. Albei vorme van identiteit word gevorm deur ’n dinamiese proses waarby sowel die aanvaarde identiteit as die spesifieke omstandighede ’n rol speel. In die geval van sosiale identiteit is die moontlike alternatiewe minder, omdat individuele verskille ter wille van die gemeenskaplike identiteit onderbeklemtoon word. Die groep funksioneer as ’n prototipe waarby die individu aanpas en nie andersom nie. Hierdie proses vorm die grondstruktuur van alle vorme van stereotipering, wat altyd ’n mate van veralgemening en uiteindelik vergrowwing en vertekening meebring. Dit volg dat as die eenhede groter word – byvoorbeeld as van groep na staat en selfs die “internasionale staat” (vgl. Wendt 1994) beweeg word – die beperking en vertekening nog groter word. Daar vind dus ’n mate van ontpersoonliking (depersonalization) plaas, waarvolgens mense hulle eerder met die sosiale kategorie as met die individu as sodanig vereenselwig. “Depersonalization is the basic process underlying group phenomena such as social stereotyping, group cohesiveness, ethnocentrism, cooperation and altruism, emotional contagion, and collective action” (Stetson en Burke 2000:232).

Daarteenoor beklemtoon individuele identiteitsteorie die volle spektrum van keusemoontlikhede wat vir die individu beskikbaar is en werk dit gevolglik eerder uitbreidend as beperkend. In hierdie verband hang die teenstelling uitbreidend teenoor beperkend saam met die kontras tussen enkelvoudig en meervoudig, soos later duideliker sal blyk.

Die saambindende tendens van die groep geld egter slegs die interne samehorigheid van die groep. Sodra die groep na buite optree, hulle van ander groepe onderskei of hulle teen ander wil verset, verander die konvergerende instelling na een van teenstelling en verdediging en vertoon die groep die kenmerke van ’n mono-identiteit.

Sekere situasies bevorder die ontwikkeling van enkelvoudige identiteit. In monokulture, waar taal-, kultuur-, godsdiens- en staatsgrense grotendeels saamval, is meervoudigheid minder van ’n bedreiging en kan die ideaal van enkelvoudige identiteit langer in stand gehou word. Vir minderhede, met name miskende, onderdrukte en verontregte minderhede, bied enkelvoudige identiteit dikwels die enigste mobiliseringsbasis. Gevolglik word IP die mees voor die hand liggende strategie. Maar selfs in samelewings wat deur meervoudigheid en verskeidenheid gekenmerk word, word enkelvoudige identiteit dikwels as ideaal voorgehou – ironies genoeg as teenvoeter vir veelvuldigheid. Die VSA kan daarom op sy smeltkroesverlede roem, omdat sy burgers bowenal “Americans” is. In Suid-Afrika, daarenteen, is die ou landleuse, ex unitate vires (“krag uit eenheid”), en die meer onlangse (en in sigself teenstrydige) “unity in diversity” dikwels nie in staat om die krake wat deur verskeie enkelidentiteite veroorsaak word, te verberg nie.

’n Verdere teenstrydigheid duik op as gevra word: Wie is die “outeur” van identiteit? Gewoonlik word tussen eksogene en endogene identiteit onderskei. Eersgenoemde is identiteit wat van buite “toegeken” word aan ’n individu of groep. Byname is ’n goeie voorbeeld hiervan. Sodanige identiteit het meestal ’n negatiewe konnotasie vir die draer daarvan – ’n identiteit wat as onvanpas, vernederend of oneg ervaar word. Stereotipes is ’n ander voorbeeld van toegekende identiteit wat nie net negatief en vernederend kan wees nie, maar ook lewensgevaarlik – wat in tragiese gevalle al selfs op volksmoord uitgeloop het.

Hoewel “nasionale” identiteit wel endogeen kan wees, is dit in baie gevalle eksogeen, byvoorbeeld wanneer dit deur ’n veroweraar of maghebber aan die verowerde toegeken word. Met die versnippering van Afrika tydens die koloniale tydperk is nie net fisiese grense nie, maar ook “nasies” deur die koloniale maghebbers kunsmatig geskep en met geweld afgedwing. Dit wil nie sê dat daar nie gronde vir so ’n identiteit bestaan nie – historiese, kulturele en geografiese faktore speel wel ’n rol in die proses. Ook in die geval van individue kan ’n bynaam ’n sekere karaktertrek raak vasvang. Dit gaan egter daaroor dat hierdie identiteit van buite af toegeken word en nie intern geëien word nie.

By endogene identiteit is die “eienaar” in beheer en vorm dit deel van elke mens se ontwikkeling as persoon. Die eerste gewaarwording van die self is terselfdertyd ’n bewuswording van identiteit – die bewuswording dat ek ek is, iemand uit eie reg, anders as my ouers of familie. Hierdie self-bewussyn is die eerste stap van ’n ontdekkings- en vormingsproses waardeur die “self” al duideliker kontoere aanneem in onderskeid van ander identiteite. Hierdie endogene identiteit word grootliks deur die persoon self gedefinieer en – meer belangrik – deur die persoon self geëien.

By nadere ondersoek blyk die onderskeid tussen ekso- en endogene identiteit egter nie so klinkklaar te wees nie. Hoe graag die self uitsluitlik in beheer van die proses van identiteitsvorming sou wou wees, is daar altyd ook ’n ander in spel. Van die oer-Afrikaïese mantra “ek is ’n mens deur ander mense”, via Buber (1997) se Grundwort “Ich und Du”, en Ricoeur (1995) se “Soi-méme comme un autre” is die dialogiese aard van identiteitsvorming nog altyd besef. In organisasiekunde het Robert Weick (1995) gewys op hoe die proses deur die voortdurende wisselwerking van twee vorme van identiteit voortgestu word: die selfbeeld wat die “maker” van sigself het, en hoe ander hierdie “maker” sien. Ons selfbeeld (’n ander woord vir ons “reputasie”) is nie iets waaroor ons alleen besluit of beskik nie – dit word wesenlik beïnvloed deur hoe ander ons waarneem en tipeer.

Ons stuit dus ook hier op ’n paradoks, wat met ’n verdere faset saamhang: die krag van minderhede. IP-groepe boks in baie gevalle bo hul gewigklas. Die merkwaardige prestasie van IP om vir minderhede in die praktyk gelyke status en regte as meerderhede te verseker is ’n aanduiding van hoe hulle die “swakheid” van minderhede in ’n kragbron omskep. Ironies genoeg word dit gedoen nie deur die magsbasis van die groep te vergroot nie, maar deur dit te reduseer tot die kleins moontlike minderheid – dié van die enkeling en die regte van hierdie enkeling. In die Suid-Afrikaanse konteks het die poging misluk om groepsregte in die Grondwet te verskans. In plaas daarvan word die basiese regte van elke individuele burger deur die Handves van Menseregte gewaarborg (vgl. die herhaalde gebruik van “elkeen”/“everyone” in hoofstuk 2 van die Grondwet). Dit is hierdie individuele regte wat die basis verskaf vir die mobilisering vir die groep om vir hulle groepsbelange in die bres te tree. Op hierdie wyse word die meerderheid van getalle en die mag wat die meerderheid kan uitoefen, effektief omseil deur op die regte van die enkeling terug te val. As dit met ’n aggressiewe styl gepaard gaan, kan dit des te meer doeltreffend wees. ’n Goeie voorbeeld is die veel groter invloed en media-aandag wat die EFF en hul leier geniet as wat hul getalle by die stembus regverdig.

Tog is die saak ook hier nie so eenvoudig nie. Vir die begronding van hul aansprake kan IP-groepe hul op die Grondwet en die basiese reg van die enkeling beroep. Vir die verwesenliking van hierdie aansprake is hulle egter op die instemming/medewerking/sanksie van die meerderheid aangewese. Ook die kwessie van mag en magsuitoefening kan dus nie op sigself of in isolasie plaasvind nie – ook hier kan dit alleen in ’n groter en gemeenskaplike konteks verwesenlik word. Dit is die ontbrekende faktor wat McNay benadruk en wat later in die artikel weer ter sprake kom.

Die poststrukturalistiese kritiek van Heyes (2002) dat IP steeds op ’n vorm van essensialisme berus, sou in die kol wees as ontologiese prioriteit aan identiteit toegeken word. Maar die dinamiese, vloeibare, onstabiele en veranderende aard van identiteit word lank reeds erken, ook in dekonstruksiekringe. Dink maar aan Derrida (1981:21) se gebruik van différance om die “systematic play of differences, of the traces of differences, of the spacing by means of which elements are related to each other” te beklemtoon – die immer verskuiwende, ontglippende aard van ons taal en bestaan (wat ook identiteit insluit). Heyes se kritiek kyk dus die eintlike punt mis, want dit verklaar nie die voorstuwende krag van identiteit en die diepgewortelde behoefte om te “behoort” nie.

Die drang na identiteit, die proses van bewuswording, blyk dus van konstituerende aard te wees – dit is hoe die self gebore word, na vore tree, sigbaar word. Ten diepste gaan dit om die behoefte om raakgesien te word. In die woorde van Tiemie van Siener van die suburbs se versugting: “Ek wil van geweet wees.” Maar hierdie bestaan word (paradoksaal!) werklikheid alleen as dit deur ander erken word. Die konstituering van die self hang nie slegs van selfponering af nie, maar ook van die konstituering deur die ander.

IP word egter nie slegs deur ’n reeks van teenstrydighede gekenmerk nie – dit gaan ook gepaard met onbedoelde gevolge vir eenheid en samehorigheid.

 

3. Die achilleshiel van IP

Ten spyte van die groot mate van sukses waarop IP aanspraak kan maak, het dit ook onbedoelde nadelige gevolge. Die Achilles-hiel van hierdie benadering is die ernstige en skynbaar onkeerbare verbrokkeling wat dit veroorsaak, met negatiewe gevolge vir sosiale samehorigheid.

Om van hierdie gevolge konkreet te illustreer, word – tussen tientalle ander moontlikhede – kortliks na vier voorbeelde verwys. Die gevalle verskil in sekere opsigte radikaal van mekaar, maar vertoon nogtans tipiese IP-kenmerke. Die eerste twee verteenwoordig teenoorgestelde uiterstes op die politieke spektrum, waar die gemeenskaplike geneigdheid na vernouing egter sy tol eis. In die eerste geval word handelingsmoontlikhede al meer verskraal totdat slegs die opsie van geweld oorbly, terwyl die tweede groep binne ’n ope, liberale bestel moet opereer wat nie strook met sy revolusionêre doelwitte en werkswyse nie. Die derde voorbeeld laat blyk hoe ’n andersins hoogs suksesvolle en invloedryke beweging se interne solidariteit deur ’n proses van voortgaande uitsluiting bedreig word. In die laaste geval word “politiek” van ’n breër aard bedryf deurdat die grense van partypolitiek doelbewus oorskry word om die groter ruimte van die burgerlike samelewing vir ’n groot verskeidendheid van inisiatiewe te benut.

3.1 Proud Boys: Glybaan na geweld

Die Proud Boys (PB) is ’n verregse, chauvinistiese, rassistiese, antisemitiese en antiislamitiese beweging wat glo in die meerderwaardigheid van die Westerse beskawing en wat politieke geweld in die VSA en Kanada aanstig. Die naam verwys na die liedjie “Proud of your boy” uit die Disney-film Aladdin, waarin Aladdin sy moeder om verskoning vra dat hy ’n “slegte seun” was en belowe om haar voortaan trots op hom te maak. Gavin McInnes (stigter van die PB in 2016) interpreteer die liedjie as ’n misplaaste apologie van Aladdin omdat hy ’n seun is en onder druk geplaas word deur vroue wat hulself as slagoffers voordoen. Die slagoffermentaliteit van vroue en van onderdrukte groepe is volgens McInnes ’n ongesonde verskynsel wat tot gevolg het dat wit mans en die Westerse kultuur hulle tans in ’n staat van beleg bevind.

Die PB volg die geykte IP-strategie van kategorisering en vyandskepping. In die praktyk beteken dit ’n konsekwente anti houding teenoor enigiets of enigiemand wat nie aan die eng kriteria van die eie groep (in hierdie geval wit, manlik, Westers) voldoen nie. Die beweging rig hom teen mense wat nie wit is nie, maar ook teen vroue, Jode, Moslems, transgender persone, Antifa (antifascisme), immigrante, Oosterlinge, liberaliste, sosialiste en nog meer. Dis ’n klassieke voorbeeld van uitsluiting en van die verenging van die eie identiteit.

Die radikale aard van die PB se uitsprake en optrede het daartoe gelei dat hulle deur die belangrikste sosiale netwerke uitgesluit word. Facebook, Instagram, Twitter en YouTube weier om enige materiaal van hulle te plaas. Die Kanadese regering het hulle amptelik as ’n terroristegroep geklassifiseer, terwyl die Departement van Justisie in die VSA die beweging in 2021 van sameswering teen die staat beskuldig het.

Dis ironies dat die PB beweer dat hulle reëls “racist, white supremacist or violent activity” verbied (Shannon 2020), terwyl hul ontstaansgeskiedenis en openbare optrede hierdie beleidstelling weerspreek. Sodanige diskrepansie tussen amptelike beleid en konkrete optrede kom nie alleen by die PB voor nie, maar ook by ander IP-groepe, soos straks sal blyk.

Op tipiese wyse verklaar die PB hulself as ’n minderheidsgroep (in weerwil van statistiese feite en die historiese posisie van wit mans) – ’n groep wat volgens hulle onder beleg is, wie se voortbestaan bedreig word en hulle gevolglik die slagoffers van onreg en diskriminasie maak. Vandaar hul aanspraak op die reg op verset en hul regverdiging van die gebruik van geweld.

Naas hierdie bekende generiese strategieë is die mees opvallende kenmerk van die PB’s eerstens die reikwydte van hul “antisisme” en tweedens hul verheerliking van geweld. Die spektrum van hulle “anti” sentimente is besonder breed – soos reeds hier bo aangedui is. Ras, gender, godsdiens, kultuur, politieke filosofie en lewensbeskouing vorm alles deel van die palet. Vroue en niewit lede word wel geduld, maar slegs as hulle die PB-ideologie volledig onderskryf.

Die keersy van hierdie omvattende “vyandbasis” wat die PB die stryd aansê is dat hulle in die praktyk ’n buitengewoon geïsoleerde groep is met ewe-eens beperkte handelingsmoontlikhede. Die PB verpersoonlik die uiterste teenpool van verdraagsaamheid, onderhandeling, konsensus en kompromie – alternatiewe wat deur die groep as vorme van “swakheid” verwerp word. Hiermee is die terrein voorberei vir die tweede opvallende kenmerk van die groep, naamlik die propagering en beoefening van fisieke geweld.

Die keuse vir geweld as “voorkeuroplossing” moet nie metafories misverstaan word nie. McInnes is hieroor eksplisiet: “I cannot recommend violence enough. It is a really effective way to solve problems” (Hatewatch 2017) en verder: “I want violence, I want punching in the face. I’m disappointed in Trump supporters for not punching enough” (McInnes 2021). Die groep het aktief deelgeneem aan ’n lang reeks van gewelddadige protesoptredes sedert 2017, wat in 2021 ’n hoogtepunt bereik het met die bestorming en besetting van die Amerikaanse Kongresgebou (die Capitol) in Washington.

3.2 Economic Freedom Fighters: Spanning tussen teorie en praktyk

Hier te lande bied die Economic Freedom Fighters (EFF) ’n voorbeeld aan die teenoorgestelde kant van die IP-spektrum – ’n soort van “linkse” teenpool van die PB van die VSA en Kanada. Die hoofdoel van die party is die ekonomiese (naas die politieke) bevryding van Suid-Afrikaners wat steeds deur die nagevolge van apartheid benadeel word. Hul leier, Julius Malema (eertydse president van die jeugvleuel van die African National Congress), het in 2013 van die ANC weggebreek om ’n eie party te stig. Die EFF-grondwet wat op 16 Desember 2014 by die stigtingsvergadering in Mangaung (Bloemfontein) aanvaar is, is ’n belangrike dokument wat die beginsels, doelwitte en strategie van die party uitspel.

Die party vertoon al die klassieke kenmerke van ’n IP-beweging. Soos die PB, posisioneer die EFF hulself as ’n radikale en uitgesproke “anti” party (“anti-capitalist, anti-racist, anti-sexist, anti-imperialist” volgens artikel 1.4 van hul grondwet), met die groot verskil dat hulle eksplisiet die gelykheid van vroue “and other gendered persons” erken en wil bevorder (“to oppose oppression of women and all other gendered persons” en “to oppose patriarchy, sexism, and homophobia and any discriminatory practices that promotes (sic) the oppression of anyone, women in particular” – artikel 2.7 en 2.8).

Meer nog: Die EFF se grondwet spreek hom “resolutely” uit teen enige vorm van onverdraagsaamheid wat betref afkoms, godsdiens, kultuur en burgerskap (“to oppose resolutely, tribalism, regionalism, religious and cultural intolerance” – artikel 2.6) en verwerp vreemdelingehaat en “any discriminatory practices that promotes (sic) the oppression of anyone” (artikel 2.8).

Die EFF vorm deel van die bestaande politieke bestel in Suid-Afrika en funksioneer formeel binne die raamwerk van die Suid-Afrikaanse Grondwet – wat EFF-parlementslede kragtens hulle ampseed onderneem om te eerbiedig en te beskerm. Die party maak ruim gebruik van die land se regstelsel as dit tot hulle voordeel ingespan kan word.

Wat die EFF veral interessant maak, is die spanning tussen beleid en praktyk. By die bespreking van die PB is reeds hierna verwys. Dis natuurlik ’n neiging wat ook by baie ander politieke partye voorkom. In die geval van die EFF kan die spanning egter na hul grondwet self teruggevoer word.

Hoewel die EFF binne die konstitusionele bestel optree, veroorloof die party hom die vryheid om van “whatever revolutionary means possible” gebruik te maak “to capture political and state power”. Hoewel hy hom vir die ekonomiese welvaart “of all” beywer, is die fokus in besonder op “Africans” (artikel 2.1 – vgl. EFF Constitution 2014). Die einddoel is niks minder nie as die vervanging van die bestaande bestel met ’n alternatiewe staat. Dit moet bereik word deur “the complete overthrow of the neo liberal (sic) anti-black state” en die vestiging van “the dictatorship of the people in place of the dictatorship of the bourgeoisie” (artikel 1.3).

Die skisofrenie van die EFF bestaan dus daarin dat die party binne ’n staatsbestel moet opereer waarvan hy die legitimiteit betwyfel en waarvan hy eintlik nie deel wil wees nie. Die gewaande inklusiwiteit (vgl. die herhaalde gebruik van “all”) is in werklikheid ’n seksionele “all”, in ooreenstemming met die anti karakter van die party, gerugsteun deur sy IP-strategieë.

Die onderliggende spanning in die basisdokumente word versterk deur die party se optrede in die praktyk, wat telkens in stryd is met sy verklaarde beginsels. Hoewel die voorwoord van hul grondwet verduidelik dat die EFF gelei word “by ideals that promote and practice (sic) organic forms of political leadership, which appreciate that political leadership at whatever level is service, not an opportunity for self-enrichment and self-gratification”, word die leierskap geruime tyd al by die VBS-bankskandaal betrek (vgl. Kahla 2018; Grootes 2020). Hoewel die party hom vir die onafhanklikheid en eenheid van alle Afrika-state beywer (artikel 2.5), was lede by gevalle van vreemdelinghaat betrokke wat deur die leierskap veroordeel moes word (Makhafola 2019). Verder is die party en sy leier in ’n reeks hofsake van haatspraak en rassisme aangekla. Sommige hiervan is deur die EFF gewen (Rabkin 2019), terwyl ander verloor is (Njilo 2020). Julius Malema is reeds twee keer skuldig bevind op ’n klag van haatspraak, waarvan die bekendste die uitspraak van die Gelykheidshof in 2011 was oor sy sing van “awudubula ibhunu” (“kill the boer” – vgl. Afri-Forum and Another v Malema and Others 2011).

Die radikale filosofie van die party, sy konfronterende politieke styl en sy eksklusiewe fokus op één bepaalde groep vir wie hy as kampvegter wil optree, bring mee dat die EFF ’n hoogs polariserende faktor in die Suid-Afrikaanse samelewing geword het (vgl. BBC News, 30 Maart 2019).

Die optrede van die EFF kan as opportunisties beskryf word, of as polities baie bedrewe, afhangende van die perspektief van die waarnemer, en daar is geen twyfel dat hulle weet hoe om publisiteit optimaal te benut nie. Hoe ook al, die EFF se optrede werk toenemend polarisasie, konfrontasie en onvermydelik fisieke geweld in die hand – tot skade van die brose sosiale kohesie in die land.

3.3 Feminisme: Van ’n inklusiewe na ’n eksklusiewe benadering

Feministiese teorie en praktyk is so omvangryk en wydvertak dat dit haas onmoontlik is om enige algemeen-geldende opmerkings oor die veld te maak. Hier word slegs één episode in die lang en verwikkelde geskiedenis van die beweging uitgelig wat die kern aanraak van die probleem wat in hierdie artikel bepreek word, naamlik die verskuiwing van ’n inklusiewe na ’n eksklusiewe benadering wat plaasgevind het in die tagtigerjare van die vorige eeu.

Gedurende die 1960’s het vroue in die VSA ’n leidende rol gespeel in die Civil Rights Movement en in die protesbeweging teen Amerikaanse betrokkenheid in die Viëtnam-oorlog. Dit het hulle gedoen op ’n inklusiewe wyse, as deel van ’n groter, omvattende sosiale en burgerlike solidariteit. Die uitgangspunt was dié van gelykheid – gelykheid van regte en geleenthede, en van gelyke toegang tot en deelname aan alle aspekte van die samelewing. Aanvanklik is ’n groot mate van sukses behaal (byvoorbeeld die aanvanklike aanvaarding van die Equal Rights Amendment deur die Amerikaanse kongres en senaat). Die verwagtinge was hoog dat seksisme oorwin sou kon word en dat vroue uiteindelik die vryheid sou geniet wat hulle so lank ontsê is.

Hierdie verwagtinge het egter toenemend in ontnugtering verander. Mandle (2021) wys daarop dat vroue ten spyte van hulle groot bydrae tot die burgerregtebeweging steeds nie die erkenning geniet het wat hulle verdien het nie. Die stereotiepe opvattings van mans as natuurlike leiers en vroue as volgelinge het selfs binne die Civil Rights Movement voortgeduur. Van gelyke geleenthede vir vroue (om van gelyke vergoeding nie te praat nie) het weinig gekom. Verder het die algemene politieke klimaat teen 1980 onder die presidentskap van Ronald Reagan toenemend konserwatief geword. Die gevolg was ’n drastiese verandering van oriëntasie en van strategie – ’n ommeswaai van insluiting en solidariteit na een van uitsluiting en die alleengang van vroue. Hierin het die beginsels van IP ’n belangrike rol gespeel. Dis belangrik om te beklemtoon dat feminisme nie ’n uitvloeisel van IP is nie – die beweging het lank reeds en om ander redes sy beslag gekry. IP het egter die onderbou verskaf om die andersheid van vroue te begrond (in teenstelling met die gelykheidsbenadering van vroeër) en om hul struktureel benadeelde status te beklemtoon.

Die gevolg was ’n inkeer na binne, die toenemende afstand neem van die samelewing in sy geheel, en ’n nuwe vasbeslotenheid om nie op ander (veral prinse) te vertrou nie, maar op eie krag staat te maak en die stryd dan maar alleen te voer. “Identity politics defines groups as so different from one another, with the gap dividing them so wide and unbridgeable, that interaction is purposeless” (Mandle 2021).

Die oortuiging dat samewerking oor gender- en ander grense net nie moontlik is nie, het egter ook ander, onbedoelde, interne, en derhalwe meer skadelike gevolge gehad. Die neiging tot toenemende versplintering het oorgespoel in die feministiese beweging self en die interne solidariteit bedreig. Een opvallende voorbeeld is die interne spanninge wat onlangs binne die NWSA (National Women Studies Association) voorgekom het. “Identity groups within the organization pitting academic women against non-academic women, Jewish women against non-Jews, women of color against white women, lesbians against straight women, lesbians of color against white lesbians, mothers against non-mothers and more” (Mandle 2021).

Hierdie interne spanninge doen nie enigsins afbreuk aan die belangrike en omvangryke bydrae wat feminisme gelewer het en steeds lewer tot sosiale geregtigheid, die strukturele verandering van die gemeenskap en die substansiële verbetering van die posisie van vroue nie. Die verbrokkelingspotensiaal van IP is sekerlik ook nie eie aan feminisme nie, maar ’n verskynsel wat in een of ander graad by feitlik alle vorme van IP voorkom, tot nadeel van sosiale samehorigheid.

3.4 Solidariteit: Verskuiwing van die politieke terrein na die burgerlike sfeer

Die Solidariteit-beweging in Suid-Afrika is in baie opsigte ’n atipiese voorbeeld van IP. Nogtans maak die beweging wel deeglik van IP-beginsels en -strategieë gebruik wat op vernuftige en vindingryke wyse toegepas word.

In die Suid-Afrikaanse politieke bestel staan Solidariteit waarskynlik die naaste aan die Vryheidsfront Plus. Vir die doel van hierdie artikel is eersgenoemde egter meer interessant as laasgenoemde, omdat Solidariteit doelbewus ’n breër terrein bestryk en buite die nouer grense van partypolitiek optree.

In haar insiggewende analise toon Van Zyl-Hermann (2021) aan tot watter mate Solidariteit en die burgerregteorganisasie AfriForum daarin geslaag het om ’n “alternatiewe staat” vir Afrikaners binne die Suid-Afrikaanse staatsbestel te skep. Daar is geen onduidelikheid oor die vakbondagtergrond van Solidariteit nie en ook nie dat ten volle van die rasgebaseerde voorregte gebruik gemaak is wat wit Afrikaners in die verlede geniet het nie. Die aanspraak op die “minderheidstatus” van die lede van die beweging word tans egter gebaseer op die uitgangspunt dat Afrikaners in die nuwe bestel die slagoffers van onregverdige regstellende aksie geword het. Solidariteit vertoon gevolglik baie van die IP-kenmerke wat reeds bespreek is. Die oriëntering is duidelik konserwatief, en aanvanklik was daar ook steun vir die gedagte van ’n afsonderlike “volkstaat” vir Afrikaners.

’n Belangrike keerpunt het gekom toe daar teen 1994 finaal afgesien is van die poging om ’n afsonderlike geografiese gebied as “volkstaat” erken te kry – waarskynlik vanweë die praktiese onhaalbaarheid van die idee (vgl. Van Zyl-Hermann 2021:109). Maar selfs meer fundamenteel en betekenisvol was die besluit om eerder op die burgerlike samelewing as op die politieke terrein te konsentreer. Solidariteit streef dus nie na direkte parlementêre verteenwoordiging nie. Die basis vir optrede is die regte waarop elke burger aanspraak kan maak en wat in die Grondwet van die land verskans is.

Hierdie strategiese verwisseling van “gevegsterrein” het groot voordele vir die beweging meegebring. Eerstens word die koste en energie wat die normale partypolitiek en die gepaardgaande verkiesingsveldtogte vereis, bespaar en word die hulpbronne in ’n ander rigting aangewend. Kommunikasie is direk met lede en die aandag word op konkrete kwessies toegespits. Tweedens is die voorkeurinstrument van optrede die bestaande regstelsel eerder as parlementêre magsprosesse – ’n keuse waarmee Solidariteit tot dusver aansienlike sukses behaal het. Derdens het dit die beweging in staat gestel om gaandeweg van ’n rasgebaseerde bestel na ’n meer inklusiewe benadering te beweeg (ten spyte van ’n duidelike apartheidsverlede) deur ook vir ander “benadeelde” minderheidgroepe in die nuwe bestel in die bresse te tree. Vierdens het die skopus van die beweging se bedrywighede en dienste dramaties toegeneem. Soos Van Zyl-Hermann (2021:111) uitwys, is daar haas geen samelewingsterrein wat nie bedien word nie – opvoeding en opleiding (laer, tegniese en hoër onderwys), maatskaplike dienste, ’n bougenootskap, finansiële en beleggingsadvies, kapitaalvoorsiening vir nuwe ondernemings, ’n eie mediakanaal met tydskrifte, ’n uitgewery en rolprentbedryf, ’n bemarkingsplatform vir “Afrikaanse” produkte, die verskaffing van plaaslike dienste as alternatief vir die staat se gebrekkige bestuur en dienslewering, eie internasionale betrekkinge, en les bes ’n eie vervolgingsgesag. Geen wonder dat die beweging toenemend die kontoere van ’n “alternatiewe” staat of ’n “staat binne ’n staat” begin aanneem nie (Van Zyl-Hermann 2021:117).

Laastens – en as oorgang na die volgende gedeelte – vind hierdie inisiatiewe plaas binne die raamwerk van en in aanvaarding van die “nuwe” Suid-Afrika. Die stryd is nie teen die staat as sodanig nie, maar teen wat as ’n “mislukte staat” ervaar word. Die Grondwet bly die basisdokument – alle aansprake, en met name die reeks hofgedinge, word immers met ’n beroep op bestaande wetgewing en op grondwetlik verskanste regte gedoen.

Die implikasie is dat in hierdie opsig die gety van uitsluiting en verbrokkeling in ’n mate omgekeer word ten gunste van ’n meer insluitende benadering. Die “alternatiewe staat” vervang nie die regstaat nie, maar bestaan daarnaas of liewer, daarbinne. Meer nog, die “alternatiewe staat” maak ten volle gebruik van die instrumente en moontlikhede wat laasgenoemde bied om die doelwitte van die beweging te bevorder. Dit is nog ’n geval van waar die wapens van die “vyand” tot eie voordeel ingespan word (vgl. Castells en Lategan 2021:1). Hoewel Solidariteit wel deeglik as minderheid mobiliseer, en op basis van ervaarde benadeling, vind die mobilisering plaas binne die groter bestel van die staat, wat juis sekere hefbome bied wat die beweging tot sy voordeel inspan.

Ook in ’n ander opsig het ’n mate van verbreding plaasgevind, weg van ’n eng rasgebaseerde benadering. In 2016 het Solidariteit ’n belangrike toetssaak gewen toe die Konstitusionele Hof beslis het dat die Departement van Korrektiewe Dienste onregverdig teen sewe bruin werknemers gediskrimineer het en beveel het dat hierdie lede bevorder en terugwerkend vergoed moet word (Strydom 2016). Hierdeur kon Solidariteit demonstreer dat hulle as kampvegter vir alle benadeelde minderheidsgroepe optree en nie slegs vir een rasgroep nie. Die beginsel van regstellende aksie word nie betwis nie, maar wel die onbillike wyse waarop dit toegepas is.

 

4. Die kwessie van mag en deurleefde ervaring

Moet ons teen die agtergrond van hierdie voorbeelde aanneem dat die onbedoelde gevolge van IP inherent aan hierdie benadering is en nie vermy kan word nie? Is die uiteinde van IP toenemende verenging en isolasie, polarisasie en konfrontasie, voortgaande versplintering en verlies aan sosiale samehorigheid, met reaksies wat wissel van die soeke na alternatiewe staatsvorme tot gewelddadige besettings en selfs terreur?

In die soeke na ’n antwoord moet eers twee belangrike faktore wat dikwels oor die hoof gesien word, verreken word. Die eerste is die rol van mag wat altyd ’n medebepalende faktor by identiteitsvorming is. In haar belangrike boek Against recognition argumenteer McNay (2008) dat die idee dat die soeke na erkenning die groot dryfveer agter identiteitsvorming is, op ’n misverstand berus. Die behoefte aan erkenning hang saam met ’n veel belangriker faktor, naamlik die uitoefening van mag in die vorm van magsverhoudinge en die sosiale hiërargieë wat altyd in “subject formation” aanwesig is. Vir haar is “a sociological account of power” (2008:11) die ontbrekende element wat die sleutel bied tot ’n beter begrip van die dinamika van identiteitsvorming.

Enige abstrahering in die vorm van “universele” spelreëls as voorwaarde vir suksesvolle dialoog (à la Habermas), kyk dus volgens McNay die konkrete impak van magsverhoudinge in die vorm van hiërargieë, oorheersing en ervarings van onmag mis. Dit lei tot die tweede faktor wat McNay beklemtoon, naamlik die belangrikheid van deurleefde of lyflike ervaring (“embodied experience”) in die proses van identiteitsvorming. Identiteit is nie slegs ’n kwessie van abstrakte status of formele regte nie, maar ten diepste ’n kwessie van belewing. Hierdie belewing vorm nie alleen die kern van selfbesef nie, maar is ook noodsaaklik om die onderskeidende aard van die spesifieke identiteit tot uitdrukking te bring. ’n Meer diepgaande analise van “how the workings of power and symbolic violence both constrain and enable the individual’s ability to construct a coherent narrative” is dus nodig, want “relations of power shape and distort embodied experience in ways that often elude the individual and therefore restrict the ability to narrate a coherent account of self” (McNay 2008:116).

Die klem op deurleefde ervaring hang saam met die onderskeid tussen toegekende en selfaanvaarde identiteit waarna reeds verwys is en bring ook die netelige vraag na vore wie namens wie mag praat. As slegs diegene wat ’n betrokke ervaring self deurgemaak het, aan die gesprek mag deelneem, tree nuwe vorme van uitsluiting na vore wat ons weer eens terugbring na die sentrale kwessie van die onbedoelde gevolge van verbrokkeling, isolasie, polarisasie en uitsluiting wat so kenmerkend van IP is.

 

5. ’n Alternatiewe benadering

Is ’n alternatiewe benadering moontlik?

Die eerste stap in hierdie rigting sou wees om die krag, onontbeerlikheid en potensiaal van identiteit volledig te erken en aan te gryp. Dis nie om dowe neute dat Castells (1997) as titel vir sy baanbrekende boek The power of identity gekies het nie. Die selfbewussyn van die individu ás individu is immers die beginpunt van alle handeling en verskaf terselfdertyd die dryfkrag vir alle verdere inisiatiewe. Deurleefde en histories-gewortelde identiteit is nie alleen die bron van singewing en betekenis nie, maar is vandag “stronger than ever everywhere, as a counterpart to the global flows of capital and communication that attempt to overwhelm the specificity of every human community” (Castells en Lategan 2021:1).

Enige poging om die krag van identiteit te ontken, te verwater of te onderdruk ter wille van die groter geheel of vir die “algemene beswil”, kyk die positiewe potensiaal van identiteit mis en is uiteindelik tot mislukking gedoem. ’n Sterk identiteitsbewussyn is ’n fundamentele bousteen vir sosiale strukture en noodsaaklik vir die stabiliteit van die samelewing in sy geheel. In die woorde van Bottequin (2021): “Die wichtigste Lektion fängt bei einem selbst an.” Die kritiese vraag is met watter konsep van identiteit die taak aangepak word. Solank as wat aan ’n enkelvoudige en binêre verstaan van identiteit vasgeklou word waarby een identiteit teenoor ’n ander gestel word en hulle mekaar op ’n zero-som-manier probeer uitkanselleer, en wat op ’n hiërargie van mag en vermeende meerder- en minderwaardigheid berus, is die saak uitsigloos.

Onvergenoegdheid met gangbare opvattings van identiteit is nie iets nuuts nie. Pogings om tot ’n meer genuanseerde en verdiepte verstaan van identiteit te kom, strek oor ’n wye spektrum en sluit onder andere die werk in van Bhabha (1990; vgl. Easthope 1998), Butler (1990; 2004), Nussbaum (1996; 2019), Cornell (2000), Brubaker en Cooper (2000), Geschiere (2009) en Fukuyama (2018) – om slegs enkeles te noem. Om hierdie pogings in meer besonderhede te ontleed sal egter ’n artikel op sy eie verg. Hier gaan dit om die omkering van die basisstruktuur van die identiteit – van ’n uitsluitende na ’n insluitende denkwyse en van ’n strategie van verenging na een van verbreding.

Wat dus nodig is, is nie die ontkenning of geringskatting van (self)identiteit nie, maar ’n radikaal veranderde identiteitsbegrip – radikaal in dié sin dat insluiting in plaas van uitsluiting as vertrekpunt geneem en ook as mikpunt nagestreef word.

Maar as identiteit in wese op onderskeid, afstand en andersheid berus, stel dit ons nie voor ’n onoplosbare teenstrydigheid nie?

Hoeseer identiteit ook al op onderskeid, selfbewussyn, en self-gerigtheid berus, kan sodanige selfvorming slegs binne ’n groter geheel en in wisselwerking met die ander verwesenlik word. Die self is ontologies van die ander afhanklik. Die afsonderlikheid van die self veronderstel per definisie die teenwoordigheid van ander. Die self kan haar of hom onderskei en ’n persoon uit eie reg wees alleen as daar ’n ander punt of ’n Gegenüber bestaan waarvan afstand geneem word.

Om ’n voorbeeld uit die semantiek te neem: Soos die keuse van suster in die sintagmatiese konstruksie van ’n spesifieke sin deur paradigmatiese alternatiewe soos broer, moeder, vader, susterskind ens. soos ’n “wolk van getuies” omring word, kry hierdie spesifieke persoon die kontoere van menswees en haar individuele profiel in kontras met die moontlikhede wat nié gekies is nie. Die mate waarin sy haarself is, hang af van die mate waarin sy van ander onderskei word. Met ander woorde, sy is van ander afhanklik om haarself te wees.

Die voorgaande is ’n poging om die basiese en konstituerende onvolledigheid van menswees en van elke vorm van identiteit – hetsy van ’n individu of van ’n groep – te probeer verduidelik. Ons het reeds by Weick (1995:21–2) gesien dat hoe ons oor onsself dink, tot ’n groot mate bepaal word deur wat ons dink ander van ons dink. Hy verwys na Cooley wat reeds in 1902 die beeld van ’n spieël gebruik het om aan te toon hoe sterk ons selfbeeld deur ander beïnvloed word. “The thing that moves us to pride or shame is not the mere mechanical reflection of ourselves, but an imputed sentiment, the imagined effect of this reflection upon another’s mind”, en: “We are ashamed to seem evasive in the presence of a straightforward man, cowardly in the presence of a brave one, gross in the eyes of a refined ones, and so on. We always imagine, and in imagining shame, the judgements of the other mind” (Cooley 1902:153 – my kursivering).

Francis Nyamnjoh maak onvolledigheid ’n sentrale tema in sy werk. In ’n reeks publikasies (Nyamnjoh 2015; 2016; 2017; 2018; 2021) ondersoek hy die reikwydte en belangrikheid van hierdie konsep in alle rigtings. In plaas van die strewe na volledigheid en volmaaktheid (wat onvermydelik trappe van vergelyking, hiërargieë, meerderwaardigheid, vernouing en uiteindelik die strewe na uitkomste van die “alles of niks”-soort veroorsaak), bepleit hy die aanvaarding van onvolledigheid as die normale aard van menswees:

… not as a negative attribute of being, but as something to embrace and celebrate, as we, in all humility seek to act and interact with one another, with the things we create to extend ourselves, and with the natural and supernatural worlds relevant to our sense of being and becoming. To recognize and provide for incompleteness is not to plead guilty, inadequate and helplessness vis-à-vis the supposedly complete others. Instead, incompleteness is a disposition that enables us to act in particular ways to achieve our ends in a world or universe of myriad interconnections of sentient incomplete beings and actors, human and non-human, natural and supernatural, amenable and not amenable to perception through our senses. (Nyamnjoh 2021:1)

Menslike interafhanklikheid en verbondenheid is nie ’n nuwe tema nie en is al op verskillende maniere aan die orde gestel. In die (Suid-) Afrikaanse konteks is die bekende begrip ubuntu veral prominent (vgl. Forster 2006; Eze 2007). Die term onvolledigheid het egter die voordeel dat dit ’n minder belaste en omstrede term is en dat dit die wedersydse-verskuldig-wees beter tot uitdrukking bring.

In plaas van woorde met negatiewe assosiasies, soos “gebrekkig”, “onvoltooid”, “minderwaardig” en “onvoldoende” (wat gevoed word deur die onbereikbare ideaal van volmaaktheid en die daarmee gepaardgaande strewe om ander te oortref en te oorheers) bied onvolledigheid ’n positiewe vertrekpunt vir die fundamentele ommeswaai van ’n na-binne-gerigtheid na ’n na-buite-gerigtheid, van uit- na insluiting, van enkel- na veelvoudige denke. Dit open die deur vir assosiasies van bevryding, uitreiking, samewerking, interafhanklikheid, beweeglikheid, verandering en vernuwing.

Die keersy van onvolledigheid is dus die interafhanklike aard van die menslike bestaan – die erkenning van hoeseer ons by ander in die skuld is of hoeveel ons aan ander verskuldig is, hoe ons deur ander gevorm word en op ander aangewese is ten spyte van die (relatiewe) onafhanklikheid van ons eie identiteit.

Put differently, we are who we are through a process of interdependence and indebtedness. This recognition facilitates the cultivation of a disposition of humility that enables one to see and provide for interconnections. One is who one is because of others. Even if one does not always service one’s debts, let alone repay them, one is conscious that one is not self-made. At the same time, one is the product of various networks of interconnections, to the production and reproduction of which one actively contributes. (Nyamnjoh 2021:2)

Die onvolledigheid/interafhanklikheid wat identiteit kenmerk, impliseer terselfdertyd beweeglikheid en ruimte vir maneuvrering. Hierdie mobiliteit verwys nie alleen na die dinamiese aard van identiteit en die feit dat dit voortdurend in wording is nie, maar verskaf ook die stimulus vir verruiming en verandering. Die besef van die onvolledigheid en beperktheid van die self wakker die soeke aan na aanvulling en verbreding. Dit geld eerstens die interne verdieping en verbreding van die self in die gees van die spreuk wat aan Karel die Vyfde toegedig word: “Soveel tale wat ek ken, soveel male is ek mens” (vgl. Blatt 2019). Dit beteken ’n gerigtheid na buite, verwelkoming van die onbekende en vreemde, die soeke na alternatiewe moontlikhede, die oorweging van verskillende perspektiewe, en die erkenning van wat die self aan die bydrae van ander te danke het.

Daarnaas is eksterne verbreding nodig, dit wil sê die uitreik na ander, die sluit van alliansies (vgl. Osaghae 2021), die verwelkoming van die ander en die vreemde, die aktiewe en kreatiewe bou aan ’n vergrote menswees, deur interaktiewe dialoog en die medevorming van en deur die ander, in plaas van afsondering, dadeloosheid en verskraling. Dit geskied steeds op basis van ’n sterk en viriele eie identiteit wat die belangrikheid van “komvandaan” beklemtoon.

Identiteit is by uitstek geskik as vertrekpunt van waar verandering geïnisieer kan word vanweë die merkwaardige ewewig wat ons selfbewussyn handhaaf tussen die belewing van konstantheid en die werklikheid van voortdurende verandering. Die self leef in die konstante besef dat ek dieselfde ek bly ten spyte van alle veranderinge wat ek ondergaan. Al mag die selle in my liggaam voortdurend vervang word en ek elke dertig dae ’n “ander persoon” in terme van my fisieke samestelling geword het (Richards 2002:42–3; vgl. Forster 2006), is ek in my bewussyn steeds dieselfde ek. Die konstante en bestendige van self-identiteit bly gehandhaaf terwyl die self (biologies, fisiologies, fisies, psigies) voortdurend in wording is en in ’n voortdurende proses van verandering verkeer. Dit is dieselfde soort paradoks wat alle lewende organismes kenmerk. Hierdie organismes is vir hulle (voort)bestaan van grense afhanklik – maar slegs as hierdie grense relatief, poreus en verskuifbaar bly.

Identiteit bied dus die speelruimte waar alternatiewe vir die self en vir die wêreld bedink, ontwerp en uitgetoets kan word. Die dinamiese aard van identiteit is daarom ’n belangrike dryfveer vir verandering en vernuwing. Om dit ten volle in werking te stel is daar egter ’n derde vorm van verruiming nodig: Naas die interne en die eksterne verbreding van die self moet die rol van identiteit sélf verruim word. In plaas daarvan om ’n beperkende, passiewe, verdedigende en beskermende funksie te vervul, het identiteit ’n aktiewe, skeppende, konstruktiewe, vernuwende bydrae om te lewer. Soos McNay (2008:191) tereg daarop wys, moet identiteit meer as blote teenstand wees. Hierdie eng anti ingesteldheid moet verbreed word om die veranderende potensiaal van identiteit tot volle ontplooiing te bring (Lategan 2014). Identiteit is nie slegs vloeibaar en veranderlik nie, maar ook ’n eksperimentele ruimte waarin ander moontlikhede vir die self en vir die wêreld ondersoek en beproef kan word.

Om hierdie moontlikhede in werklikheid te omskep, is dit egter nodig om die impak van mag en magsverhoudinge volledig in berekening te bring. Ons het gesien hoe McNay (2008:114–7) dit as ’n groot leemte uitwys dat deurleefde werklikheid en die rol van mag dikwels nie deel is van die gesprek oor identiteit nie. Hierdie gesprek kan nie vassteek in ’n oefening op teoretiese, geabstraheerde vlak nie, maar moet die werklikheid aanspreek waar die deurvoering van mag ’n voorwaarde vir konkrete verandering is. Dit mag goed klink om die veranderingspotensiaal en skeppende krag van identiteit te besing, maar wat is die reële kanse om dit in die praktyk te verwesenlik, veral as dit om minderheidsidentiteite gaan?

Dit bring ons terug na een van ons oorspronklike vrae: Wat is die geheim van IP se sukses? Waarom is hierdie groepe so effektief – dikwels buite verhouding gegee hul getalle? Die feit van die saak is dat hulle van die mag van ander afhanklik is. Hoe goed georganiseerd ’n minderheid mag wees en hoe effektief hulle ook al mag funksioneer, is hulle vir die realisering van hul eise van ander afhanklik. Die aanspraak wat byvoorbeeld Solidariteit namens sy lede maak, is nie gebaseer op afsonderlike regte of behandeling vir hierdie lede nie, maar berus op die algemene reg wat vir alle burgers deur die Grondwet gewaarborg word. Die mag van hofbevele wat in hul guns uitgereik word, berus op die mag van die hof en die regstelsel, dit wil sê op die mag van ander. Voorstelle vir die verbetering van wetgewing hang af van die oortuiging van ander partye om die redelikheid en uitvoerbaarheid daarvan te erken. Die verskaf van alternatiewe dienste het die uiteindelike die doel om ander te oortuig (in hierdie geval die munisipaliteite self) om hul normale verpligtinge na te kom. In die magspel geskied die uitoefening van die mag van die minderheid steeds in wisselwerking met die mag van die meerderheid. Met ander woorde, om effektief mag uit te oefen is die minderheid van die mag /toestemming/oorreding van die meerderheid afhanklik. Wanneer IP volhard in ’n verengde en uitsluitende strategie soos dié van byvoorbeeld Proud Boys, is geweld die enigste opsie wat oorbly – ’n strategie wat uiteindelik tot mislukking gedoem is. Vir sukses is ’n “slimmer” vorm van IP nodig.

’n Verruimde selfbewussyn en ’n begrip van die interafhanklikheid van die magspel beteken nie dat stryd en wedywering daardeur uitgeskakel word nie. Dit plaas die kwessie egter in ’n wyer konteks wat die kanse op konstruktiewe resultate groter maak. Identiteit loop altyd die risiko om te vernou en om in weerstand en verset vas te steek. Die uitdaging is om die soepelheid en kreatiwiteit van identiteit te benut om ’n groter rol in ’n wyer konteks te speel tot voordeel van die samelewing in sy geheel.

 

Bibliografie

Afri-Forum and Another v Malema and Others (20968/2010) [2011] ZAEQC2; 2011(6) SA240 (EqC); [2011] 4 All SA 293(EqC); 2011 (12) BCLR 1289 (EqC) (12 September 2011).

Bhabha, H.K. 1990. Interrogating identity: the postcolonial prerogative. In Goldberg (red.) 1990.

Blatt, F. 2019. Men is zoveel keren man als men talen spreken kan. https://www.mensenzijnmedia.be/men-is-zoveel-keren-man  (21 Mei 2021 geraadpleeg).

Bottequin, J.-M. 2021. Die wichtigste Lektion fängt bei einem selbst an. Süddeutsche Zeitung, 5 Mei 2021. https://www.sueddeutsche.de/muenchen/muenchen-jean-marie-bottequin-koerpersprache-fotograf-pantomime-1.5283195?reduced=true (21 Mei 2021 geraadpleeg).

Bronstein, R. 2019. The limits of Trump’s white identity politics. The Atlantic, 15 Augustus 2019.

Brubaker, R. en F. Cooper. 2000. Beyond “identity”. Theory and Society, 29(1):1–47.

Buber, M. 1997 [1923]. Ich und Du. Gütersloh: Gütersloher Verlagshaus.

Butler, J. 1990. Gender trouble. Feminism and the subversion of identity. New York: Routledge.

—. 2004. Undoing gender. New York: Routledge.

Castells, M. 1997. The power of identity. The information age: Economy, society and culture. Volume 2. Oxford: Blackwell Publishers.

Castells, M. en B. Lategan. 2021. Introduction: Identity, networks and state formation in Africa. In Castells en Lategan (reds.) 2021.

Castells, M. en B. Lategan (reds.). 2021. National identity and state formation in Africa. Cambridge: Polity Press.

Connolly, W. 1991. Identity|Difference: Democratic negotiations of political paradox. Minneapolis: University of Minneapolis Press.

Cooley, C.H. 1902. Human nature and the social order. New York: Scribner.

Cornell, D. 2000. Just cause: Freedom, identity, rights. Lanham: Rowman en Littlefield.

Derrida, J. 1981. Positions. Chicago: Chicago University Press.

Du Toit, C.W. (red.). 2007. The impact of knowledge systems on human development in Africa. Pretoria: Unisa.

Easthope, A. 1998. Bhabha, hybridity, and identity. Textual Practice, 12(2):341–8.

EFF Constitution. 2014. http://www.myvotecounts.org.za/wp-content/uploads/2019/04/EFF-Constitution-x-Code-of-Conduct-Secretary-General-2017.pdf (23 Junie 2021 geraadpleeg).

Eze, M.O. 2017. I am because you are: Cosmopolitanism in the age of xenophobia. Philosophical Papers, 46(1):85–109.

Forster, D. 2007. Identity in relationship: The ethics of ubuntu as an answer to the impasse of individual consciousness. In Du Toit (red.) 2007.

Fukuyama, F. 2018. Identity. Contemporary identity politics and the struggle for recognition. Londen: Profile Books.

Geschiere, P. 2009. The perils of belonging. Autochthony, citizenship, and exclusion in Africa and Europe. Chicago: University of Chicago Press.

Goldberg, D.T. (red.). 1990. Anatomy of racism. Minneapolis: University of Minnesota Press.

Grootes, S. 2020. VBS Bank heist arrests: Who’s next? Daily Maverick, 18 Junie 2021.

Hatewatch. 2017. Hard times comin’ through: Gavin McInnes and the Charlottesville “racism war”. Southern Poverty Law Center. https://www.splcenter.org/hatewatch/2017/08/22/hard-times-comin-through-gavin-mcinnes-and-charlottesville-racism-war (24 April 2021 geraadpleeg).

Heyes, C.J. 2002. Identity politics. Stanford Encyclopedia of Philosophy. https://plato.stanford.edu./entries/identity-politics (19 Mei 2021 geraadpleeg).

Julius Malema – South Africa’s radical agenda setter. BBC News, 20 April 2019. https://www.bbc.com/news/world-asia-pacific-14718226 (7 Junie 2021 geraadpleeg).

Kahla, C. 2018. Scorpio: EFF ties to VBS Bank heist exposed. The South African, 21 November 2018.

Kruks, S. 2001. Retrieving experience: Subjectivity and recognition in feminist politics. Ithaca: Cornell University Press.

Lategan, B.C. 2014. “Ek is …”. Oor die problematiek van enkelvoudige en meervoudige identiteit. LitNet Akademies, 11(2):262–82.

Makhafola, G. 2019. Julius Malema condemns attacks on foreigners as “acts of crime”. Independent Online, 5 September 2019.

Mandle, J.D. 2021. How political is the personal? Identity politics, feminism and social change. Women’s Studies Online Resources. https://userpages.umbc.edu/~korenman/wmst/identity_pol.html (26 April 2021 geraadpleeg).

McInnes, G. 2021. Gavin McInnes quotes. BrainyQuote.com, BrainyMedia Inc. https://www.brainyquote.com/authors/gavin-mcinnes-quotes (24 Maart 2021 geraadpleeg).

McLean, I. A. 1998. White aborigines: Identity politics in Australian art. Cambridge: Cambridge University Press.

McNay, L. 2008. Against recognition. Cambridge: Polity Press.

Neofotistos, V. 2013. Identity politics. Oxford Bibliographies. https://www.oxfordbibliographies.com/view/document/obo-9780199766567/obo-9780199766567-0106.xml (10 Mei 2021 geraadpleeg).

Njilo, N. 2020. Yet another court loss for EFF in defamation case against Trevor Manuel. https://www.timeslive.co.za/politics/2020-12-17-yet-another-court-loss-for-eff-in-defamation-case-against-trevor-manuel (23 Junie 2021 geraadpleeg).

Nussbaum, M.C. 1996. Patriotism and cosmopolitanism. In Nussbaum en Cohen (reds.) 1996.

—. 2019. The cosmopolitan tradition. A noble but flawed ideal. Boston: Harvard University Press.

Nussbaum, M.C. en J. Cohen (reds.). 1966. For love of country. Debating the limits of patriotism. Boston: Beacon Press.

Nyamnjoh, F.B. 2015. Incompleteness: Frontier Africans and the currency of conviviality. Journal of African and Asian Studies, 50:1–15.

—. 2016. #RhodesMustFall. Nibbling at resilient colonialism in South Africa. Bamenda: Langaa Research and Publishing.

—. 2017. Drinking from the cosmic gourd. How Amos Tutuola can change our minds. Bamenda (Kameroen): Langaa Research and Publishing.

—. 2018. Mobility, globalisation and the policing of citizenship and belonging in the 21st century. Ongepubliseerde voordrag gelewer by die konferensie National Identity and State Formation in Africa, Oktober 2018 by Stias.

—. 2021. Cecil John Rhodes: “The complete gentleman” of imperial dominance. The Jugaad Project, 23 Februarie 2021. https://www.thejugaadproject.pub/home/rhodes-the-complete-gentleman (1 Mei 2021 geraadpleeg).

Osaghae, E.E. 2021. Federalism in Africa. In Castells en Lategan (reds.) 2021.

Rabkin, F. 2019. Equality court dismisses Gordhan’s hate speech case against Malema. Mail & Guardian, 31 Oktober 2019.

Richards, J.W. (red.). 2002. Are we spiritual machines: Ray Kurzweil vs the critics of strong A.I. Washington: Discovery Institute Press.

Ricoeur, P. 1995. Oneself as another (Soi-méme comme un autre). Vertaal deur Kathleen Blamey. Chicago: Chicago University Press.

Shannon, J. 2020. Who are the Proud Boys? Far-right group has concerned experts for years. USA Today, 30 September 2020. https://www.usatoday.com/story/news/nation/2020/09/30/who-proud-boys-group-mentioned-debate-has-violent-history/5868406002 (24 Maart 2021 geraadpleeg).

Slabbert, M. en D. de Villiers 2011. David Kramer. ’n Biografie. Kaapstad: Tafelberg.

Smith, D. 2019. “It’s a political civil war”: Trump’s racist tirades set tone for 2020. The Guardian, 8 Desember 2019.

Stetson, J.E. en P.J. Burke. 2000. Identity theory and social identity theory. Social Psychology Quarterly 63:224–37.

Strydom, N. 2016. DKD-werknemers moet bevorder word, terugwerkend vergoed word. Maroela Media, 15 Julie 2016. https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/dkd-werknemers-moet-bevorder-word-terugwerkend-vergoed-word (28 April 2021 geraadpleeg).

Van Zyl-Hermann, D. 2021. A new kind of state for the nation? Civil society mobilization and white minority identity politics in post-apartheid South Africa. In Castells en Lategan (reds.) 2021.

Weick, K.E. 1995. Sensemaking in organizations. Foundations for organizational science. Londen: Sage Publications.

Wendt, A. 1994. Collective identity formation and the international state. The American Political Science Review, 88:384–96.

Zerilli, L. 2005. Feminism and the abyss of freedom. Chicago: Chicago University Press.

 

Eindnotas

1 Slabbert en De Villiers (2018:327) oor Kramer se liedjie “Hy kô huis toe”.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Identiteitspolitiek: Sukses, paradoks en onvoorsiene gevolge appeared first on LitNet.

Liggaamsfragmentering in sentraal-Middeleeuse vroulike mistiek

$
0
0

Liggaamsfragmentering in sentraal-Middeleeuse vroulike mistiek

Johann Beukes, Departement Filosofie en Klassieke, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 18(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Hierdie artikel betoog dat die fragmentering van die vroulike liggaam, ingevolge waarvan eerder op die verbrokkelde dele en betreklikheid van daardie liggaam as op die eenheid en heelheid daarvan gefokus word, op ’n onderbeklemtoonde maar nietemin aanwysbare tendens in die werk van etlike prominente vroulike mistici in die sentrale Middeleeue dui. Wanneer hierdie mistieke denkers se tersaaklike verwysings in jukstaposisie geplaas word, word dit moontlik om die fragmentering van die vroulike liggaam as ’n unieke eienskap van vroulike mistiek in sowel die liefdesmistieke as wesensmistieke trajekte in die sentrale Middeleeue uit te wys.

Die artikel ondersoek eerstens die teologiese en filosofiese bronne van vroulike mistiek in die vroeë en sentrale Middeleeue, met spesifieke verwysing na die apofatiese teologie van Pseudo-Dionisius (ca. 500), die radikale sinteses van Maximus Confessor (580–662) en die ervaringsgedrewe epistemologie van die Viktoriaan Richard (d. 1173), wat vir ’n mistieke ontwikkeling vanaf oculus rationis na oculus imaginationis na oculus intelligentiae betoog het. Hierdie drie diskursiewe bronne is byeengebring in die tydgenootlike Franciskaan Alexander van Hales (ca. 1185–1245) se intieme inkarnasieleer. Liggaamsfragmentering en mistieke vroulike orgasme (raptus) word teen hierdie ideehistoriese agtergrond opvolgend gekontekstualiseer in tersaaklike gedeeltes in die Minnemystik van Hadewijch van Antwerpen (fl. 1240), Beatrijs van Nazareth (ca. 1205–1268), Hildegard von Bingen (1098–1179) en Gertrud von Helfta (1256 – ca. 1302), opgevolg met ’n lesing van die Wesenmystik van Mechtild von Magdeburg (ca. 1207 – ca. 1282) en Marguerite Porete (1250–1310), asook die idiosinkratiese fragmentering van die liggaam by Birgitta Birgersdotter (1302/3–1373). Laastens word die sakramentele herstel van die gefragmenteerde vroulike liggaam deur middel van raptus binne die konteks van die sakrament van die Nagmaal ondersoek. Met die byeenbring van hierdie bronne en tersaaklike tekste word liggaamsfragmentering en die mistieke herstel daarvan in die Nagmaal as ’n onderbeklemtoonde maar aanwysbare tema in sentraal-Middeleeuse vroulike mistiek aangedui.

Trefwoorde: Alexander van Hales (ca. 1185–1245); Beatrijs van Nazareth (ca. 1205–1268); Birgitta Birgersdotter (1302/3–1373); Middeleeuse mistiek; Minnemystik en Wesenmystik; Gertrude von Helfta (1256 – ca. 1302); Hadewijch van Antwerpen (fl. 1240); Hildegard von Bingen (1098–1179); Liggaamsfragmentering; Marguerite Porete (1250–1310); Maximus Confessor (580–662); Mechtild von Magdeburg (ca. 1207 – ca. 1282); Pseudo-Dionisius (ca. 500); Richard van St Viktor (d. 1173); vroulike liggaamlikheid in die Middeleeue

 

Abstract

The fragmentation of the body in central-Medieval female mysticism

The thesis of this article is that the fragmentation of the female body, focusing rather on its individual and disjointed parts than on the body as a unit, is an understated yet discernible feature in the work of several prominent female mystics from the 12th and 13th centuries. When references to bodily fragmentation in these works are juxtaposed it becomes possible to indicate this fragmentation or disjointing of the female body as an understated feature of, yet pertinent trend in, female mysticism during the central Middle Ages. The article systematically investigates four idea-historical sources (theological as well as philosophical, with specific reference to the positions of Pseudo-Dionysius, Maximus Confessor, Richard of Saint Victor and Alexander of Hales) as subtle influences on both the Minnemystik and Wesenmystik trajectories in the central Middle Ages, focusing on relevant passages in the mystical writings of (alphabetically) Beatrice of Nazareth (ca. 1205–1268), Birgitta Birgersdotter (1302/3–1373); Gertrude von Helfta (1256 – ca. 1302), Hadewijch of Antwerp (fl. 1240), Hildegard von Bingen (1098–1179), Marguerite Porete (1250–1310) and Mechtild von Magdeburg (ca. 1207 – ca. 1282). In conclusion the sacramental healing of the disjointed female body in these women’s mystic unifications with God, including the profoundly erotic nature thereof in particularly Minnemystik, is considered.

After a short introduction, Medieval Minnemystik and Wesenmystik are importantly distinguished: Minnemystik (with Hadewijch of Antwerp, Beatrice of Nazareth, Hildegard von Bingen and Gertrude von Helfta as some its most prominent exponents) can be described as an overtly feminine phenomenon, where the verb love (minnen) is employed to describe the (indeed worldly) unification between God and (wo)man as an erotic love relationship: God allows God to be experienced as Love (Minne) by the (female) subject in search of God’s love (minne). The exceptional feature of Minnemystik is its profound emotional-ecstatic and erotic nature: The union of God’s Love and the subject’s love affects the mind and the senses of the human being involved to such an extent that it results in various psychosomatic effects. These effects include intense visionary experiences with a deep-rooted sexual character (and, in Wesenmystik, the eradication of human subjectivity). The experience of the union with God and God’s Love leads to a concurrent psychological departure from the Self as well as an expansion of the Self’s self-understanding and interpretation of the world. Marguerite Porete presented a speculative Wesenmystik in which a spontaneous and radical sense of identity, similarity and affinity between the human soul and God are articulated (a less drastic version of Wesenmystik is encountered in the work of another beguine, Mechtild von Magdeburg). Where Minnemystik is overtly erotic in its presentation of a relationship, Wesenmystik, preoccupied with philosophical ontology, employs a robust imagery no less provocative than Minnemystik itself.

Four crucial discursive and idea-historical sources of central-Medieval female mysticism are next presented: 1) The Neoplatonic-inspired and negative theology of Pseudo-Dionysius (ca. 500) and its emphasis on the transcending of mundane (including dogmatic) language; 2) the four syntheses of Maximus Confessor (580–662); 3) crucially, Richard of St Victor’s (d. 1173) experience-driven epistemology; and 4) the Franciscan Alexander of Hales’s (ca. 1185–1245) synthesis of the perspectives of Dionysius, Maximus and St Victor in his emphasis on the intimate nature of the incarnation. From this opened-up and dynamic theological-philosophical anthropology follows an enlightenment of human understanding. This enlightenment is not established in the fact that it is filled with some new insight, such as a new understanding of the contents of faith, beauty or justice. It is not, therefore, about a new-found ability to assess more morally or impartially, but rather enlightenment from the unified experience with God: In the union with the Beloved, His incomparable Other, His beloved, may now be rationally known. Reason, as St Victor insisted, therefore plays a part in this highest mystical experience of the highest being, because it illuminates the lasting transcendence of God. Through the intervention of unification, the mystic can learn how to love God in God’s independence and wholly Otherness. The bodily experience of God in Minnemystik points towards St Victor’s oculus imaginationis, which can contemplate material reality only because it is “body” and materiality itself. The applications of the rational, discursive mind, oculus rationis, however, lead to enlightenment and understanding beyond oculus imaginationis. Yet both are subordinate to oculus intelligentiae, wherein God contemplates Godself and the unification between Beloved and beloved gives access, in the end, to precisely that divine Self-contemplation: whereas the objects of experience of oculus imaginationis (such as the body and functions of the body, such as the sexual) become present in an immediate and unmediated way, in oculus rationis the mind reflects on a mediated yet not-immediate reality, which is God. In the end – and this is the highest function of both Minnemystik and Wesenmystik, based on oculus intelligentiae as the complete invisible – God is, at last, contemplated as an immediate present.

Against this discursive backdrop the fragmentation of the female body is considered in terms of the fetishisation and eroticisation of the single part of the female body from the 12th century onward as a unique reaction to the theological-philosophical debates on the relation between universality or the whole and particularity or the part at the time. The role of medical conventions about the female body, especially with regard to orgasm, is explored, with special reference to the influence of Ibn Sina’s (Avicenna; AH370–AH428 / 980–1037) Liber canonis totius medicinis cordialibus, et cantica in the Latin West in the 12th century. Parts of the female body, especially the heart, hair (including pubic hair), arteries and veins, bones and bone marrow, are indicated as crucial focal points in this regard.

In close conjunction with the analyses of Caroline Walker Bynum and Michelle Sauer, mystical female orgasm or raptus as a form of “divine orgasm” is presented as the result of this fixation on the individual and fragmented parts of the female body. Juxtaposing relevant passages in the mystical works of several female mystics from the 12th and 13th centuries, bodily fragmentation is described as an innovative form of gender subjectivity, produced by the instigation of female sexual desire within a radically spiritualised context and culturally mediated by the cosmological and medical conventions of the time. The healing and unification of the fragmented female body in the sacrament of the Eucharist is finally considered as a post-raptus reconstruction of the female subject in her radical unification with God.

Keywords: Alexander of Hales (ca. 1185–1245); Beatrice of Nazareth (ca. 1205–1268); Birgitta Birgersdotter (1302/3–1373); Female body in the Middle Ages; Fragmentation of the female body; Medieval mysticism; Minnemystik and Wesenmystik; Gertrude von Helfta (1256 – ca. 1302); Hadewijch of Antwerp (fl. 1240); Hildegard von Bingen (1098–1179); Marguerite Porete (1250–1310); Maximus Confessor (580–662); Mechtild von Magdeburg (ca. 1207 – ca. 1282); Pseudo-Dionisius (ca. 500); Richard of St Victor (d. 1173)

 

1. Inleiding 

Hierdie artikel betoog vanuit ’n eenvoudige en gestroopte vraag: Hoe het vroulike mistici, juis as uitermate vergeestelikte wesens, in die sentrale Middeleeue1 oor hulle eie liggaamlikheid nagedink? Die antwoord sal, soos ook andersins in die sentrale Middeleeue, nie gevind word in ’n geheelaanbod of die universaliteit van dinge nie, maar eerder in brokstukke, verdelings en partikulariteite. Die fragmentering van die vroulike liggaam, ingevolge waarvan eerder op die verbrokkelde dele en verdeelbaarheid van daardie liggaam as op die eenheid en heelheid daarvan gefokus word, word hier aangedui as ’n onderbeklemtoonde dog aanwysbare tendens in die werke van etlike prominente vroulike mistici in die sentrale Middeleeue. Wanneer hierdie vroulike mistieke denkers se tersaaklike verwysings na verbrokkelde liggaamlikheid in jukstaposisie geplaas word, word dit moontlik om die fragmentering van die (vroulike) liggaam as ’n unieke eienskap van vroulike mistiek in sowel die liefdesmistieke as wesensmistieke trajekte in die sentrale Middeleeue uit te wys.

Eerstens word ’n sistematiese en ideehistoriese ondersoek na die diskursiewe bronne van vroulike mistiek in die vroeë en sentrale Middeleeue geloods, met spesifieke verwysing na die apofatiese teologie van Pseudo-Dionisius (ca. 500), die vier sinteses van Maximus Confessor (580–662) en die ervaringsgedrewe epistemologie van die Viktoriaan Richard (d. 1173), soos byeengebring in die Franciskaan Alexander van Hales (ca. 1185–1245) se intieme inkarnasieleer. Na ’n uiteensetting van die kulturele prioritisering van die deel bo die geheel in die 12de en 13de eeue (met verwysing na die fetisjisering en erotisering van enkeldele van die vroulike liggaam) word vroulike liggaamsfragmentering en mistieke vroulike orgasme (raptus) teen hierdie ideehistoriese agtergrond gekontekstualiseer in tersaaklike gedeeltes in die Minnemystik van Hadewijch van Antwerpen (fl. 1240), Hildegard von Bingen (1098–1179), Beatrijs van Nazareth (ca. 1205–1268), Gertrud von Helfta (1256 – ca. 1302) en Birgitta Birgersdotter (1302/3–1373), opgevolg met ’n lesing van die Wesenmystik van Mechtild von Magdeburg (ca. 1207 – ca.1282) en Marguerite Porete (1250–1310), op grond waarvan vroulike liggaamsfragmentering as ’n uniek vroulik-mistieke verskynsel in die sentrale Middeleeue aangedui kan word. Laastens word die sakramentele herstel van die vroulike liggaam in die versugtinge na ’n mistieke eenwording met God in sowel die liefdesmistieke as wesensmistieke trajekte in die sentrale Middeleeue, met inbegrip van die diepgaande erotiese aard daarvan in eersgenoemde, oorweeg.

 

2. Vier diskursiewe bronne van vroulike mistiek in die sentrale Middeleeue

2.1 Die onderskeid tussen Minnemystik en Wesenmystik in sentraal-Middeleeuse vroulike mistiek

’n Ideehistoriese ontleding van Minnemystik en Wesenmystik2 in die sentrale Middeleeue gaan minstens op bovermelde vier diskursiewe bronne terug. Dit behels dus die langwerkende invloed van die apofatiese, Neoplatoniese en emanasiegedrewe Siriër Pseudo-Dionisius, sy Bisantynse opvolger Maximus se sintetiese Christologie, die vroegskolastiese St Viktor se ervaringsgedrewe epistemologie en die wyse waarop die Franciskaan Hales sowel Dionisius as Maximus en St Viktor se gedagtes in ’n intieme inkarnasieteologie byeengebring het. Die onderskeid tussen hierdie twee vroulik-mistieke trajekte in die sentrale Middeleeue is egter belangrik en moet inleidend duidelik verantwoord word. Wesenmystik (van hier af “wesensmistiek”) bring ’n spontane identiteit, soortgenootlikheid en affiniteit tussen die menslike siel en God tot uitdrukking, wat filosofies ten diepste op die verhouding tussen syn en essensie inspeel. Die wesensmistieke moment is prominent aanwesig in onder meer die primêre tekste van die twee begyne3 Mechtild von Magdeburg (ca. 1207 – ca. 1282; Das fließende Licht der Gottheit, 1250) en haar latere Franse medeganger Marguerite Porete (1250–1310; in Oudfrans getitel Mirouer des simples âmes anienties en in Latyn vertaal as Speculum simplicium animarum, ca. 1302, op grond waarvan Marguerite deur die hoofinkwisiteur van Parys aan kettery skuldig bevind en op 1 Junie 1310 op die brandstapel in Parys tereggestel is; sien Beukes 2019c:1–8; 2020b:200–25).

Mechtild en Marguerite se wesensmistiek moet onderskei word van Minnemystik (van hier af “liefdesmistiek”), verwysend na gelade en dikwels dubbelsinnig-erotiese mistieke visioene en ervarings wat tematies oorwegend terugkoppel na die boek Hooglied in die Ou Testament. Liefdesmistiek is in die sentrale Middeleeue ontwikkel deur onder meer Hadewijch van Antwerpen (fl. 1240; sien Beukes 2020c:3–4), Beatrijs van Nazareth (ca. 1205–1268; Arblaster en Faesen 2012:297–323; 2013:41–88; Van Put 2016:143–63), Hildegard von Bingen (1098–1179; sien Beukes 2019a:72–3) en Gertrud von Helfta (1256 – ca. 1302). Birgitta Birgersdotter (1302/3–1373; sien Beukes 2020g:1–12) se idiosinkratiese beskouing van die gefragmenteerde liggaam sou ook hierby aangemerk kon word. Liefdesmistiek sou beskryf kon word as ’n oorwegend4 vroulike verskynsel, waar die begrip liefde (minne) aangewend word om ’n eenwording met God in die wêreld as ’n “liefdesverhouding” aan te dui: God laat Godself toe om ervaar te word as Liefde (Minne) deur die mens wat op soek is na God se liefde (minne). Die uitstaande kenmerk van hierdie liefdesmistiek is die diep emosioneel-ekstatiese karakter daarvan. Die byeenbring van God se Liefde en die mens se liefde affekteer die verstand en sintuie van die mens wat daarby betrokke is tot so ’n mate dat dit in allerlei psigosomatiese gevolge manifesteer, onder andere in intense visioene met ’n diepgaande seksuele karakter en die gepaardgaande opskorting van menslike subjektiwiteit. Mistieke tekste in hierdie tradisie maak gevolglik ruim gebruik van metafore wat met liggaamlike liefde en seksuele intimiteit vereenselwig kan word. Hierdie soort metafore stel die liefdesmistikus in staat om ’n ontologiese onderskeid tussen die twee geliefdes te handhaaf. Dit is ’n intense en hartstogtelike liefde, maar uiteindelik wel nie meer as die liefde van twee onderskeie en altyd-onderskeibare subjekte nie (Beukes 2020b:207). Waar liefdesmistiek die intense begeerte na God beklemtoon en inderdaad blootgestel voor die afwesigheid daarvan staan, benadruk wesensmistiek ’n toestand van konstante vrede vanuit die met God verenigde siel sonder dat die rol van die liggaam onderbeklemtoon word.

2.2 Andertaligheid: die invloed van Pseudo-Dionisius (ca. 500) se apofatiese teologie

Vroulike mistici in die sentrale Middeleeue in sowel die wesensmistieke as liefdesmistieke trajekte vind ten diepste aansluiting by Pseudo-Dionisius (Beukes 2018a:1–9) se Neoplatoniese vertrekpunt dat God “anderkant syn” (huperousios) is. Dit beteken dat God die basis vir alle synsvorme is, maar self niesyn is, en daarom absoluut onkenbaar en onverwoordbaar is.5 Indien God wel geken sou word, sou God daarom “anders” en uitdruklik nietalig of ten minste “andertalig” (nie “anderstalig” nie) geken moes word. Die implikasies van so ’n apofatiese, negatiewe en andertalige teologie hou onafwendbare teendogmatiese gevolge in, aangesien die siel in hierdie juis Goddelike definiëring van die siel opgehef word, die Goddelike natuur ononderskeibaar van die siel stel en grammatikaal-dogmatiese begrippe as wegdoenbaar impliseer. Die gedeelde, ongeskape aard van God en die siel dwing dus ’n “taal” af wat in konvensionele dogmatiese terme inderdaad as verregaande beskou sou wees – maar nie in filosofiese mistiek nie. Die prioritisering van byvoorbeeld liefde as ’n daad van die vrye wil bo die intellek bemoontlik vir mistieke denkers op Dionisius se spoor ’n direkte en onbemiddelde verskuiwing van God na die siel – en terug na God, per Neoplatoniese reditus. Op grond van die ewige, ongeskape aard van God is daar ’n element van die menslike siel wat insgelyks ewig en ongeskape is. Dit is presies binne hierdie konteks van negatief-teologiese andertaligheid waar die vroulike mistieke denkers van die sentrale Middeleeue aansluiting vind.

Apofatiese teologie beteken vir Dionisius, soos vir sy Neoplatoniese voorgangers Plotinus en Porphyreus (Beukes 2018a:3–5), nie ’n growwe negasie nie, maar stilte en stilwording; om die “verskuildheid van die Goddelike, anderkant verstand en Syn” met ’n “gewyde en daarom wyse stilte” te eerbiedig.6 Die verstand se eenwording met God kan slegs met die “opskorting van elke intellektuele onderneming” gebeur.7 Die stilte self is nie ’n vorm van kennis nie, maar juis die “niegebeure” van kennis; kennis as “nonaktiwiteit”.8 Die mistieke liggaamstaal van vroulike mistici in die 12de en 13de eeue eerbiedig hierdie apofatiese kwaliteit uitdruklik.9 Daarom word die “taal van die liggaam” in hulle werke strategies gebruik om die “taal van die verstand” te oorstyg. Hadewijch (1980:84, reël 121) stel dit dienooreenkomstig: “Woorde alleen en taal alleen is genoegsaam vir al die dinge in die wêreld [...] maar geen woorde en geen taal kan uitdruk wat ek as my hoogste doel met Hom ervaar nie.”

Hierdie vroulike denkers wou nooit konvensioneel vertolk en dogmaties verstaan word nie. Juis daarom het die inhoud en aansprake van talle vroulike mistieke tekste vanaf die vroegste sirkulasie daarvan in die 12de en 13de eeue tot ernstige meningsverskille onder die hoogskolastici van die laat 13de tot die middel-14de eeue gelei. Sommige hoogskolastici het hierdie tekste wel vertolk as sou dit ’n logiese hoewel radikale ontwikkeling van Dionisius se apofatiese teologie aangebied het: Alhoewel Dionisius se werk nie noodwendig voldoen het aan die stelreëls van 14de-eeuse Christelike dogma nie, het dit ook nie sonder meer ’n afwyking van die Christelike tradisie verteenwoordig nie. Ander hoogskolastici het hierdie mistieke ontwikkelinge egter geïnterpreteer juis as ’n aanbod vanuit die Dionisiese tradisie om God “anderkant” elke (skolasties-dogmatiese) negasie en bevestiging te wil ken, as sodanig afwykend en ketters.10 Tog het die mistieke denkers, vroulik en manlik, oorwegend getrou aan hulle taaltransenderende opgaaf gebly. Dit is juis in die Dionisiese opvatting van die ongenoegsaamheid van taal – juis andertaligheid – dat die vroulike mistieke tekste vanuit die sentrale Middeleeue se ondermynende aksente tot uitdrukking gebring en as sodanig waardeer behoort te word.11 Daarvan is vroulike liggaamsfragmentering ’n onderbeklemtoonde voorbeeld.

2.3 Radikale sintetisering: Die mistieke aanspraak van Maximus Confessor (580–662) se vier sinteses

Die Bisantyn Maximus Confessor het die Neoplatoniese interpretasies van Pseudo-Dionisius met instemming onderskryf en was uitstekend vertroud met die Corpus Dionysiacum. Sy werk kan trouens verstaan word as ’n oorspronklike bywerking en voortsetting van talle temas wat in sy Siriese voorganger se Neoplatoniese metafisika gemanifesteer het. Maximus se onmiddellike tersaaklikheid vir ’n ideehistoriese verantwoording van die bronne van vroulike mistiek in die sentrale Middeleeue kan daarin gevind word dat hy daarin geslaag het om die Neoplatoniese oorlewering uniek te sintetiseer, juis binne die Oosterse konteks waarin Dionisius meer as ’n eeu voor hom geskryf het (Beukes 2020a:I:105–9).

Maximus neem naamlik die deur Dionisius bemiddelde Neoplatoniese leerstellinge rondom die afdalende Een en die opstygende kosmos wat uiteindelik na die Een terugkeer (reditus), tot ’n beduidende mate oor. Alle dinge is vooraf-behoue in God, word deur God in die skepping oopgevou en keer uiteindelik na God terug. Maximus verstaan die skepping daarom as die uitstorting of “uitdeling” van God na alle dinge as die onderskeibare Logos of determineringsbeginsel van elke syn, dialekties tegelyk die oorsaak van elke syn, sowel die doel as voltrekking van elke syn. Die logos van elke ding is die teenwoordigheid van die Logos in elke logos; anders gestel: “Die een Logos is die vele logoi, en die vele die Een” (Maximus 1865:91/1081B). Die skepping kan as analogies tot die inkarnasie verstaan word as die uitsetting van die Logos, God se Selfaanbod in geskape modus. Die hele skepping is in hierdie sin volgens Maximus in die menslike aard (ver)teenwoordig. Die mens is daarom tegelyk “mikrokosmos”12 en “Goddelike middelaar” (Thunberg 1985:46). Die mens is trouens vir Maximus die locus van die sametrekking van die kosmos. Juis in hierdie geradikaliseerde Neoplatoniese sin word die skepping in die mens “vergoddelik”. Die intrinsieke en outentieke aard van die skepping word tegelyk tot voltrekking en voleinding in die inkarnasie gebring – en die inkarnasie se direkte medehanger, die mens, word analogies die geskapenheid se insluiting in alle dinge, in-God in (Perl 2006:432). Die mens word in die inkarnasie tot God vergoddelik en God word tot die mens vermenslik. Maximus noem dit ’n “aangrypende ommekeer”: dat die mens tot God gemaak word in die “vergoddeliking van die mens” en dat God tot mens gemaak word in die “vermensliking van God” – en die inkarnasie is juis ’n keuse, die wil, van die afstygende Een self. Die Logos se diepste wil is daarom om die misterie van hierdie beliggaming tegelyk te verdiep en te verklaar (Maximus 1865:91/1084CD; vgl. Perl 2006:432). Christus is in hierdie genuanseerde sin “kosmies”. As die vleesgeworde Logos is Christus nie net die verlosser van die gevalle mensheid nie, maar “die eerste beginsel en laaste volvoering van die totale werklikheid” (Thunberg 1985:48).

Vanuit hierdie Neoplatoniese bywerking postuleer Maximus vier wydgaande sinteses: Eerstens, die vierdelige sinteses van die kosmos, wat bestaan uit die sintese van syn en beweging, van universaliteit en partikulariteit, van subjek en objek en van intellek en materie (Balthasar 2003:137–78). Tweedens, die vierdelige sinteses van die mensheid, wat intern bestaan uit die sintese van geskiedenis en heilsgeskiedenis of voleinding (parousia), van gevalle mens en vrye mens, van stolling en verval of entropie, en die seksuele sintese van “hartstog as doodsvrees” en “sensualiteit”, laasgenoemde aangebied as ’n positiewe modus van penetrasie van mens deur mens, eenwording met ’n ander mens en daardeur tegelyke eenwording met God (vgl. Balthasar 2003:179–206). Derdens, Christus as die driedelige sintese van God en mens (“die sintetiese Persoon”), van essensie en syn en vernietiging en verlossing. Vierdens volg Maximus se reeks van vyf kleiner (weer driedelige) sinteses: die sintese van die drie psigologiese fakulteite (ervaring, denke, verstaan); van die drie wette (natuurwette, die geskrewe wette en die “wet van die genade van God”); van die drie modi van aanbidding (liturgies-sakramentele aanbidding, geestelike aanbidding en die “aanbidding van liefde” [met ’n diep erotiese lading]); van die drie handelinge (kontemplasie, geloofshandeling en liefde) en laastens van die ewigheid (beweging, rus en herwinning). Dit is juis (i) die vier sinteses van die mensheid, (ii) Christus as die sintese van God en mens, (iii) die sintese van die drie modi van aanbidding en (iv) die sintese van die drie handelinge wat ooglopende implikasies vir mistieke oriëntasies inhou.

Daarby is Maximus se (vir sy tyd en konteks) idiosinkratiese en protolibertynse beskouinge rondom die verhouding tussen seks, die dood en godsdiens in die navorsing deeglik aangespreek (vgl. Thunberg 1985:11–30 en Toronen 2007:1–11). Maximus se vrymakende seksaanbod is aangrypend genuanseerd en kom in geheel nie ooreen met die Bisantynse (en die latere Latyns-Westerse) kloosterwese se sarkofobiese afwysing van seks as skaduagtig en uiteindelik ondermynend van die moontlikheid van ’n geestelike eenwording tussen mens en God nie. Trouens, seksuele differensie en erotiese oorgawe is by Maximus produktiewe modi juis as ’n filosofies-mistieke opgaaf. In die seksuele vereniging tussen een mens en een mens vind Maximus ’n mistieke eenwording tussen die Een God en een mens. Dit is ’n absoluut onvergeetlike postulaat vanuit die donkerste deel van die Middeleeue en ’n idiosinkrasie waarvoor Maximus in die sentrale Middeleeue onthou is – juis veral deur die vroulike mistici.

2.4 Die invloed van die ervaringsgedrewe epistemologie van Richard van St Viktor (d. 1173)

’n Derde diskursiewe bron vir vroulike mistiek in die sentrale Middeleeue kan gevind word in die ervaringsgedrewe epistemologie van Richard van St Viktor13 (Beukes 2020c:5–7). St Viktor het in die 12de eeu as teoloog bekendheid verwerf vir sowel sy ses-volume-werk oor die Drie-eenheid, De Trinitate (St Viktor 1958) as ’n filosoof (St Viktor 1979) wat nadruk op ’n kontemplatief-liturgiese lewe geplaas het, in veral twee mistieke werke, Benjamin maior (wat die aanvanklike titel Die mistiese ark gedra het) en Benjamin minor (wat aanvanklik as Die twaalf patriarge bekendgestaan het). In eersgenoemde werk handel St Viktor oor ’n voorbereidende kontemplatiewe lewe en in laasgenoemde oor die inhoud van sodanige kontemplatiewe lewe, wat hy as ’n lewe “vanuit dankbaarheid” verstaan (St Viktor 1855:893BC). De Trinitate het ’n beduidende invloed in die hoogskolastiek uitgeoefen, veral ten opsigte van die filosofiese nawerking van St Viktor se bewysvoeringe vir die bestaan van God op die spoor van Anselmus (1033–1109) se beroemde ontologiese Godsbewys.14 Sodanige bewyse, dui hy egter uniek aan, moet op die ervaring gebaseer wees:

Ons behoort by daardie klas van dinge te begin waaroor daar geen twyfel kan bestaan nie; en juis vanuit daardie klas dinge wat ons uit die ervaring ken, kan ons rasioneel aflei wat te bedink is oor die dinge wat die ervaring transendeer. (St Viktor 1855:894)

Hierdie “dinge (...) uit die ervaring” is kontingente objekte: dinge wat begin om te bestaan, bestaan, en ophou om te bestaan. Hierdie dinge kan ons slegs vanuit die ervaring ken, aangesien dit wat begin om te bestaan en ophou om te bestaan, nie noodsaaklik is of kan wees nie, sodat die bestaan daarvan nie apriories bewys kan word nie, maar alleen die ervaring as epistemologiese basis kan hê (vgl. St Viktor 1855:892).

Die kenteoretiese vertrekpunt vir die aanvanklike argument ten opsigte van hierdie Godsbewys is dus die kontingente objekte van die ervaring, maar ten einde ’n geslaagde en teenspraakvrye argument enduit te voer is dit noodsaaklik om vanuit ’n “helder, duidelike en onbeweegbare begronding van waarheid te begin” (St Viktor 1855:893). Met ander woorde, die argument moet ’n waar en sekere beginsel as grondslag hê waarop dit in terme van koherensie en geldigheid kan berus. Daardie beginsel is volgens St Viktor (1855:893) die beginsel van kontradiksie, wat ons volgens hom toelaat om met ’n verdeling van syn te werk. Die beginsel hou in dat elke ding wat bestaan of kan bestaan, ’n syn vanuit sigself (a se) of ’n syn nie vanuit sigself (ens a se) het; en dat elke ding wat bestaan of kan bestaan, ’n syn het wat in die tyd begin bestaan of ’n syn het wat nie in die tyd begin bestaan het nie, met ander woorde, ewig is. Enige bestaande ding moet dus (1) ewig en vanuit sigself en daarom selfeksistent wees, (2) of nie-ewig en nie vanuit sigself nie wees, (3) of ewig maar nie vanuit sigself nie wees, (4) of nie-ewig maar vanuit sigself wees. Hierdie logiese vierdelige verdeling bemoontlik onmiddellik ’n verdere driedelige verdeling, aangesien iets wat nie-ewig maar vanuit sigself is, onmoontlik is – gegewe die logiese afleiding dat iets wat begin het om te bestaan, nie vanuit sigself kon begin het om bestaan en daarom selfeksistent kan wees nie. ’n Begin-in-tyd en ’n volkome vanuit-sigself is onversoenbaar en moet daarom terugverwys word na die objekte van die ervaring en die beginsel van kontradiksie. Die objekte van die ervaring, soos wat ons dit waarneem in die menslike, dierkundige en plantkundige sfere, trouens in alles in die natuur in die algemeen, is verderfbaar, tydelik en kontingent: alles was en is begin-om-te-wees. As alles begin-om-te-wees is, is niks ewig of vanuit die ewigheid nie. Maar wat nie vanuit die ewigheid is nie, kan ook nie vanuit sigself wees nie. Dit moet daarom nie vanuit sigself nie wees. Uiteindelik moet daar wel ’n syn wees wat vanuit sigself is, met ander woorde noodsaaklike syn is, aangesien daar in die afwesigheid van so ’n noodsaaklike syn-vanuit-sigself, geen grondige oorsaak vir die bestaan van enigiets is of kan wees nie. Niks sou bestaan nie – hoewel ons vanuit die ervaring feitelik en teenspraakvry weet dat iets wél bestaan. St Viktor (1855:893) antisipeer die moontlike teenwerping dat hoewel daar inderdaad ’n noodsaaklike syn-vanuit-sigself moet wees, dit die wêreld self kan wees. Hy antwoord dat hy hierdie moontlikheid reeds uitgesluit het deur aan te dui dat ons die kontingente aard van dinge ervaar waaruit die wêreld self saamgestel is. Hierdie kenmerkende Viktoriaans-empiriese argument vir ’n ewige noodsaaklike syn-vanuit-sigself is ’n betekenisvolle verruiming van Anselmus se basiese ontologiese argument.

Sy volgende argument (St Viktor 1855:896) is nogeens Anselmiaans in oriëntasie. Dit is ’n gegewe vanuit die ervaring dat daar verskillende en uiteenlopende grade van goedheid of volkomendheid is – die rasionele is byvoorbeeld van ’n ander, verskillende en inderdaad hoër graad as die irrasionele. Vanuit hierdie empiriese gegewe argumenteer St Viktor dat daar uiteindelik ’n hoogste graad móét wees wat nie verder verhoog of oorstyg kan word nie. Aangesien die rasionele as meerdere tot die irrasionele geag moet word, moet hierdie hoogste substansie oor ’n intellektuele vermoë beskik wat nie ontleen kan word aan enige laer substansie of ’n subordinaat nie – dit moet oor ’n vermoë, syn en bestaan vanuit sigself beskik. Dit beteken noodsaaklikerwys dat hierdie substansie ewig is. Daar moet iets ewig en a se vanuit sigself wees, soos reeds aangetoon, aangesien niks anders (ens a se) in die afwesigheid daarvan sou kon bestaan nie, terwyl die ervaring ons leer dat iets anders wél bestaan. As die hoogste a se nie uit die laere ens a se enigiets hoef te ontleen vir die moontlikheid van die vermoëns en syn daarvan nie, is dit inderdaad die hoogste substansie en ewige en noodsaaklike syn.

Vervolgens postuleer St Viktor (1855:896) ’n Godsbewys vanuit die premisse van moontlikheid. In die kosmos kan niks bestaan indien dit nie by voorbaat ’n moontlikheid (of strenger Latinisties, potensialiteit) tot bestaan het nie, óf vanuit sigself, a se, óf nie vanuit sigself nie, ens a se. Iets waarvan hierdie moontlikheid ontbreek, is ’n onmoontlikheid en is inderdaad niks. Ten einde te kan bestaan, moet enige ding beskik oor die moontlikheid om te bestaan (posse esse). Die begronding in moontlikheid, wat terselfdertyd die bron van moontlikheid en daarom die bestaan van alle dinge is, kan slegs selfafhanklik wees, en absoluut – elke essensie, elke vermoë, elke insig, is afhanklik van hierdie begronding. So is daar ’n essensiebron vir alle essensies, ’n vermoëbron vir alle vermoëns, ’n bron-insig vir alle insigte – aangesien dit onmoontlik is vir ’n bron om enigiets toe te bedeel wat meer en groter is as die bron self. Wat uit die bron na vore tree, is altyd in die tweede linie van, of gesubordineerd aan, die bron. Daarom kan daar geen vermoë bestaan onafhanklik van ’n rasionele substansie waarin die vermoë by voorbaat opgesluit is nie. Die finale grond vir alle moontlikheid is nogeens die hoogste substansie. St Viktor se argumente is na sy eie terminologie uiteraard oefeninge van die rasionele, diskursiewe verstand, oculus rationis, wat uitgaan bo die oculus imaginationis, wat slegs die materiële werklikheid kan besin; hoewel beide ondergeskik is aan die oculus intelligentiae, waardeur God Godself kontempleer (St Viktor 1855:66CD,72C). In die oculus imaginationis word objekte van die ervaring onmiddellik en onbemiddeld as teenswoordig ervaar; in die oculus rationis bedink die verstand diskursief die bemiddelde, nie-onmiddellik-sigbare, byvoorbeeld deur vanaf oorsaak na gevolg of vice versa te kontempleer; in die oculus intelligentiae word die geheel-onsigbare – God – egter as onmiddellik teenswoordig bedink (St Viktor 1855:110D – en juis hierin vind die vroulike mistieke stem weerklank). Dit is dus in die mistieke beweging vanaf oculus rationis na oculus imaginationis na oculus intelligentiae waar God uiteindelik as onmiddellik teenswoordig bedink word. St Viktor sou twee 13de-eeuse Vlaamse begyne wat naas Hildegard die belangrikste eksponente van liefdesmistiek was, Hadewijch van Antwerpen en Beatrijs van Nazareth, deurslaggewend beïnvloed (Arblaster en Faesen 2013:42–5; Beukes 2020c:8–11).

Andertaligheid, radikale sintetisering en ’n ervaringsgedrewe epistemologie kan samevattend as kenmerkend van Dionisius, Maximus en St Viktor se mistieke projekte aangedui en as die drie vernaamste diskursiewe bronne van vroulike mistiek in die sentrale Middeleeue aangemerk word. Dit sou die uitset van ’n sonderlinge 13de-eeuse Franciskaan neem om hierdie bronne in ’n enkele teologiese posisie te integreer, naamlik Alexander van Hales (Beukes 2020a:I:575–83) se intieme inkarnasieleer, soos uitgewerk in sy Glossa in quatuor libros sententiarum.

2.5 Die nawerking van Alexander van Hales (ca. 1185–1245) se intieme inkarnasieleer

Hierdie15 vier-volume-werk (Hales 1951–1957) dui daarop dat hy diep bewus was van die verskil tussen argumente vanuit die openbaring of Goddelike gesag en argumente vanuit die rede. Hy skaar hom vroeg reeds in sy Glossa (1951:1:d2:v1:27) by Anselmus (vanuit Jesaja 7:9) in samehang met Augustinus (354–430) se beroemde sitaat vanuit dieselfde teksvers uit ’n pre-Vulgaat-vertaling, in die duidelikste stelling moontlik van die prioritisering van geloof in die greep op ’n “verstaan van verstaan”: “Credo ut intelligam ... Ek soek nie begrip ten einde te kan glo nie, maar ek glo ten einde te kan verstaan. Want dit glo ek: As ek nie glo nie, sal ek ook nie verstaan nie.” Met betrekking tot die mens se kennis van God betoog Hales (1951:1:3:v1:39) gevolglik dat die rede ’n noodsaaklike instrument vir teologiese besinning is en ’n bydrae lewer om die misteries van die geloof en die misterie van God self, altyd (voorlopig) te priem. Nietemin is die rede en filosofie as sodanig begrensd terwyl die verhouding tussen geloof en rede daarby kompleks is. Hoewel die rede geen toegang het tot die wese van God nie, kan die rede redelik weet dat God bestaan, juis vanuit die skepping wat God se skepping en handewerk is (Hales 1951:1:3:v1:40–2). Hales bied dan ’n aantal bewysvoeringe vir die bestaan van God aan en leun weer sterk terug na Anselmus en die twee Viktoriane Hugo en (Richard van) St Viktor in hierdie verband (Principe 1967:45–8).

Sy belangrikste bydrae in die oorgang van die 12de na die 13de eeue was egter dat hy die eerste eksponent was van die intieme soort inkarnasieteologieë wat die Franciskaanse tradisie in die sentrale en latere Middeleeue gekenmerk het (vgl. Delio 2003:2–3). Dit is ook sy subtiele bywerking van die mistieke trajekte in die vroeë Middeleeue wat ’n unieke stempel op sy inkarnasieleer plaas. Hales se inkarnasieleer vertrek juis nie vanuit die persoon van Jesus Christus, of die Tweede Persoon in die Drie-eenheid, nie, maar bloot vanuit die gegewenheid “God” en die vraag na die moontlikheid van die vereniging van die Goddelike natuur en die menslike natuur. Hy interpreteer Dionisius, Maximus en St Viktor se werke vanuit die basiese monoteïstiese probleem wat reeds in die Vroeë Kerk op ’n spits gedryf is (hoewel kennelik onvoldoende), naamlik hoe die verhouding tussen die twee nature (soos tot uitdrukking gebring in die Drie-eenheidsleer en meer spesifiek in die leer oor die Tweede Persoon) verstaan sou moes word. Het die Goddelike natuur sigself vleeswordend inderdaad met die menslike natuur verenig? Dit is duidelik die instemmende en bevestigende aksent wat deur Dionisius se andertaligheid, Maximus se radikale sintetisering van God en mens (en mens en mens) en St Viktor se ervaringsgedrewe epistemologie geplaas is.

Hales fokus gevolglik op Christus as ’n mens wat ’n enigmatiese brug tussen die Goddelike en menslike sfere geslaan het om daarmee die moontlikheid tot ’n juis voortgaande vereniging tussen die Goddelike en menslike daar te stel. Hierdie vereniging sou na Hales se byeenbring van Dionisius, Maximus en St Viktor se aksente uitermate intiem moes wees. Hierdie intimiteit word spontaan tot uitdrukking gebring in onder meer ’n affektiewe spiritualiteit en erotiesgelade metafore om die intense verhouding tussen Christus en diegene wat in Christus glo, te verwoord. Die vleeswording dui vir Hales (1951:1:3:v1:42) op ’n radikale intimiteit omdat “God wat mens geword en onder ons kom woon het” (Johannes 1:14) en die “vervlegting met Christus” (imitatio Christi; nié nabootsing nie) vir hom sinoniem is. Die vervlegting word in die gebrokenheid van Christus se verbrokkelde liggaam met die vyf kruiswonde (beide hande, beide voete en sy) gevind, soos gedenk by die sakrament van die Nagmaal. Hierdie intimiteit kan uitdruklik verleng word wanneer daar opnuut ’n verbrokkeling en fragmentering van die liggaam plaasvind; wanneer die eie verdeelde liggaam met Christus se verdeelde liggaam vervleg word en die gefragmenteerde liggaam van Christus herleef in die gefragmenteerde liggame van gelowiges. Met hierdie intieme inkarnasieleer het Hales die stemming van die kenmerkende Franciskaanse besinning oor Christus in die sentrale Middeleeue ingelei – enersyds in voortdurende aansluiting by Augustinus se oersondebegrip en prioritisering van die wil bo die intellek, andersyds voortdurend “roubeklagend, treurend en tranestortend oor Christus” (Beukes 2021b:6). Tussen Christus en Christen staan daar in hierdie Franciskaanse sin nog net intieme fragmente van gebroke liggaamlikheid. Hierdie fragmentering sou by uitstek andertalig, sinteties-seksueel en ervaringsgedrewe verwoord moes word. Daarin het die liefdesmistieke en wesensmistieke werke van die belangrikste vroulike mistici vanuit die 12de en 13de eeue beslag.

 

3. Liggaamsfragmentering in sentraal-Middeleeuse vroulike mistiek

3.1 Die fetisjisering en erotisering van die liggaamlike enkeldeel vanaf die 12de eeu

’n Fetisj het geen ander doel as die verselfstandiging van die deel tot selfgenoegsaamheid nie. Die fragmentering van die liggaam en die gevolglike fetisjisering van liggaamsdele in die sentrale Middeleeue was in hierdie diskursiewe sin die direkte gevolg van hernude debatte in die 12de en 13de eeue oor die teologies-filosofiese implikasies van die verhouding tussen universaliteit of geheel en partikulariteit of deel (Beukes 2020a:I:439–46). Dit is juis die aanspraak van die deel as ’n selfstandige (en daarom ook enkelstrafwaardige) entiteit wat in hierdie periode toenemend die fokuspunt word, tot dié mate dat daar tereg van ’n sentraal-Middeleeuse “kultuur van disseksie” (Sawdy 1995:1–2) gepraat kan word.16 Trouens, die deel word in hierdie periode duidelik bo die geheel geprioritiseer.17 Foucault (1975:5) se ideehistoriese ontledings vind byvoorbeeld die spore van modern-panoptiese waarnemings van die liggaam ter wille van selfnormalisering en effektiewe strafregpleging kenmerkend in die sentrale Middeleeue terug (vgl. Beukes 2020i:4–5). Foucault (1996:427–8) wys onder meer daarop dat, in teenstelling met strafpraktyke in die vroeë Middeleeue, liggaamskending (byvoorbeeld die afkap van ’n hand in die geval van diefstal of beide hande in die geval van gewapende roof) en die letterlik vierdelige verskeuring van die liggaam deur perdkwartering18 as straf vir halsmisdade (veral hoogverraad) in die sentrale Middeleeue die juridiese norm word.

Dit is egter nie net in teologie, filosofie en strafregpleging waar die prioritisering en uiteindelike fetisjisering van die deel in die sentrale Middeleeue duidelik na vore tree nie; ook in kunstige voorstellinge word ’n estetiese konteks vir die opkomende deelkultuur daargestel. Uitbeeldings van die kruisgebeure in hierdie periode sluit dikwels voorstellinge in van die twee “misdadigers” weerskante van die Christuskruis (na die toepaslike Bybels-evangeliese narratiewe) as stuiptrekkend, uitgebeeld met prominent geskende of andersins algeheel verwyderde liggaamsdele (Sauer 2013:125). Daarby figureer voorstellinge van talle maagdelike martelare in die vroeë Kerk vanaf die 12de eeu met hoë frekwensie in katedrale en kloosters, waarin hierdie jong vroulike martelare se folteringe uitdruklik met die skending en verwydering van individuele liggaamsdele in verband gebring word – byvoorbeeld die (volgens oorlewering) borsteskending van Agatha van Sicilië (231 – ca. 251) waarin sy haar afgesnyde borste op ’n skinkbord voor haar sou uithou, en Lucia van Syracuse (283–304), van wie die oë (nogeens volgens oorlewering) in geheel uit haar oogkaste geruk is en sy die steeds starende oë sigbaar in haar hande sou hou (Sauer 2013:125–7 [op grond waarvan Lucia reeds in die vroeë Middeleeue tot beskermheilige van blindes verklaar is]).

Daarby dui die hoogbloei van die makabere reliekehandel (sien weer eindnota 16) in liggaamsreste vanaf die 12de eeu op ’n progressiewe ontwikkeling in die fetisjisering van die liggaamlike enkeldeel. ’n Toenemend hoër premie is deur kerke en katedrale geplaas op die ten duurste aankoop van en eiendomsreg op liggaamsfragmente van geheiligde voorgangers, wat ’n tossel hare, ’n enkele vingerbeentjie of selfs groter dele van die gebeente kon insluit – maar juis nie die hele geraamte of oorskot as sodanig nie. Die deel van die oorskot was nou belangriker as die behoue geheel daarvan. Hierdie reliekfetisjisering van die liggaamsfragment het ’n enkele plaasvervangende oogmerk gehad: Die deel verteenwoordig nou die geheel as ’n omvattende en genoegsame teken om dit wat eens was, te onthou in juis die eens volledigheid daarvan (Geary 1990:36–7).

Fetisjisering en erotisering staan dikwels digby mekaar. Dit blyk ook duidelik uit onder meer die 12de-eeuse Hildegard von Bingen (1098–1179) se kosmologie (Beukes 2019a:88–90), soos verwoord in haar Divinorum Operum (Hildegard 1996). In hierdie latere werk in haar oeuvre verruim Hildegard haar vroeëre beeld van die kosmos as ’n eier, met die aarde as die vrugbare eiergeel daarvan, met die beeld van ’n wiel waarin ’n kruis midde die speke van die wiel opgeneem is (Hildegard 1855:761). Hierdie beeld word telkens in die werk herhaal, waar ’n menslike en niegeslagtelike figuur met oopgestrekte arms tussen die speke van die wiel op die kruis staan. Die kosmiese spekulasies in die sentrale Middeleeue het die mens in kruisposisie trouens as refrein gehandhaaf, en hierin was Hildegard dus geen uitsondering nie – die kop van die figuur korrespondeer met die kosmiese bewegings van die son, maan en planete, die oë met die sterre, die ore met die lug, die arms met die horisontale grense van die wêreld vanaf oos na wes, die hart met die aarde en die voete met riviere (Führkötter 1979:48). Die mens se juis afsonderlike dele staan dus as beeldende sentrum van die kosmos. Tog maan Hildegard dadelik tot ’n proporsionele verstaan van hierdie beeld – die oneindige afstand tussen die grootse dimensies van die kosmos en die individuele dele van die menslike liggaam mag nie onderwaardeer word nie (Hildegard 1855:762). Daarom skets Hildegard die lengte van die menslike kruisfiguur binne die wiel as gelyk aan die breedte van die figuur met arms oopgestrek: die mens is in proporsie gelykstaande aan die kosmos in terme van die gelykheid van lengte en breedte. Daar is dus ’n makro- en mikrokosmiese gelykheid in terme van ’n afmeting of proporsie van juis die deel. Die kosmos is in hierdie sin ’n organiese eenheid, weliswaar bestaande uit enkeldele, wat in ’n harmoniese orde gerangskik is (Hildegard 1993:33). Die klem val by Hildegard uiteindelik op juis die dele. Die mens is daarom “mikrokosmos” – selfs die kleinste deel van die menslike liggaam simboliseer een of ander aspek in die natuur – kosmies en dus ook buiteliggaamlik.

In haar opvolgwerk, Causae et curae (Hildegard 1903), word hierdie mikrokosmiese element in Divinorum Operum in logiese konsekwensie met ’n erotiserende fokus op die enkeldele van die menslike liggaam bygewerk. Dronke (1984:176) beskryf Hildegard se seksualisering van die enkeldele van die liggaam daarom tereg as ten diepste verweef met haar kosmologie, tot die mate dat sy ’n “algeheel positiewe teologie van seks projekteer”. Gevolglik skep Hildegard neologistiese, enkelliggaamsbepaalde en seksuele eufemismes of “Hildegardismes” sodat sy nie die Latynse vernakulêr19 (LV) noodwendig hoef te gebruik nie (byvoorbeeld vir anus dorniel en zirzer, LV culus; vir boudgleuf duoliz, LV nates; vir penis creueniz, LV ueretrum; vir testikels uirlaiz, LV testiculi; vir die ontblote kop van die penis lizia, LV glandula; vir die skag van die penis amzglizia, LV hegedrusum, en vir die vulva en skaamlippe fragizlans, LV mulieris).20 Hierdie neologistiese termontwikkeling word opgevolg met eksplisiete seksuele verwysings en besprekings in Causae et curae (Hildegard 1903:70,76; vgl. Beukes 2019a:88–9).

Hildegard se twee latere werke was in hierdie opsig nie uniek nie. Ons tref hier ’n betreklik tipiese beweging vanaf kosmologie na die fetisjisering en uiteindelike erotisering van liggaamsdele in die sentrale Middeleeue aan. Die fragmentering, fetisjisering en erotisering van liggaamsdele kan trouens beskou word as deel van ’n uitgebreide Middeleeuse kosmologiese stelsel waarin menslike seksualiteit aan die hart van ’n verstaan van die kosmos lê (reeds so betoog deur Maximus in die sewende eeu; sien weer 2.3). Indien Middeleeuse kosmologie nie bloot verstaan word as die studie van die mens se plek in die kosmos nie, maar ook die ontwikkeling van mites, dieptestrukture en argetipes in pogings om daardie plek te verwoord, in veral godsdienstige sin, behoort seksualiteit en erotisering as wesenskenmerke van daardie sentraal-Middeleeuse kosmologie aangedui te word (Sauer 2013:123). Seks en die erotisering van liggaamsdele is immers van meet af aan prominent aanwesig in Judees-Christelike kosmologie. Dit neem reeds vertrek in die eerste hoofstukke van die Ou Testament, met die verbanning van die mitologiese figure Adam en Eva uit die tuin van Eden (Genesis 3). Dit sou redelik wees om aan te neem dat minstens een aspek van die “kennis” wat verwerf is deur te “eet” van die “boom van kennis”, met verwysing na die “eet van die verbode vrug”, seksuele kennis en die opwekking van libidinale begeerte was. Die sondeval en verbanning uit die tuin het nie in daardie (eerste) seksuele byt en gevolglike aptyt gevestig nie, maar juis in die ervaring van eenwording met ’n Ander sonder God, waardeur ironies ’n ervaring van mundane dualiteit opgestel is en die mens sigself as “Self” en as onderskeibaar van die “Ander” ervaar het – en juis dít was die sonde. Die sonde was om intiem een te word met ’n Ander as God, naamlik met ’n ander mens. Seksuele bewussyn beteken na Genesis 3 (na my hermeneutiese verplasing daarvan) om midde seksuele eenwording bewus te wees van die Ander as Ander en een te wil word met daardie Ander, juis om sodoende die Self dialekties te bevestig – sonder “God”. Die mens ontdek homself of haarself in die eenwording met ’n ander mens. Dit is wat “God” sou gehaat het, na die sondeval: die selfontdekte en selfvervulde mens. Dit is immers net die individu – en geen kollektief nie – wat penetreer of gepenetreer word tot eenwording en die Self opnuut daarin vind. Daardie penetrerende/gepenetreerde individu of handelende erotiese subjek se liggaamsubjektwiteit staan wesenlik tot die vroulike denkers vanaf die 12de eeu se mistieke uitsette, nou juis eroties nie weg of vervreemd nie, maar in die radikale teenwoordigheid van God.

Hildegard (1855:897) was een van talle vroulike denkers in die sentrale Middeleeue wat in verset gekom het teen die wydgaande opvatting dat die skuld vir bostaande dualiteitsbesef opgeneem moet word deur vroue (as die kwansuis liggaamlike verleiders tot seksuele dualiteit) en dat vroue daarom slegs “afgeleide wesens” is, terwyl mans, as “geleierswesens”, sedert die sondeval niks meer as slagoffers van vroulike en verleidende lis geag kon word nie. Die appel is immers na Adam uitgehou om te sien, aan te raak, te ruik en te proe. Die vroulike liggaam dui in hierdie sin op ’n gewaande integraal-vroulike swakheid in ’n kosmologiese stelsel wat ten diepste en van meet af aan seksueel-gedetermineerd en bepaald androsentries in oriëntasie was. Vroulike denkers uit die sentrale Middeleeue kon volgens Hildegard óf met hierdie karikatuur volstaan óf hulleself daarteen opstel: Die “vroulike swakheid” (dus, haar “oersondige liggaamlikheid”, gegewe die vrug in haar lendene) kon instemmend as ’n bedreiging vir manlike ordeskepping, hiërargie en “ampsuiwerheid” gehandhaaf word – of juis as ’n instrument tot verset teen die teologiese verguising van “ons Evasdogters” (Hildegard 1978:SIII5; Liebeschütz 1930:138–9) gebruik word. Dit is presies wat in vroulike mistiek vanaf die 12de eeu gebeur: Die vroulike liggaam, in elke afsonderlike deel daarvan, word as ’n kultuurkritiese instrument tot die verlossing van die (vroulike) siel voorgestel.21 In ’n duidelike prioritisering van die partikuliere bo die universele beklemtoon talle vroulike mistici vanaf die vroeë 12de eeu die enkele liggaamsdeel, of samehange daarvan, as knooppunt tot kosmologiese eenwording met die Godheid. Toegerus met die diskursiewe bronne van andertaligheid (Dionisius), radikale sintetisering (Maximus), ervaringsgedrewe epistemologie (St Viktor) en ’n intieme inkarnasieleer (Hales), juis binne die kulturele konteks van die prioritisering, fetisjisering en erotisering van die liggaamlike enkeldeel, bied hierdie vroulike mistieke denkers ’n sonderlinge blik op die verhouding tussen hulle gefragmenteerde liggaamlikheid en ’n gekontempleerde uitsig op transendensie.

3.2 Orgaan, raptus en vroulik-mistieke liggaamsubjektiwiteit vanaf die 12de eeu

Geneeskunde (juis as jong universiteitsdissipline) in die Latynse Weste is vanaf die vroeë 12de eeu diepgaande beïnvloed deur Arabiese geneeskunde soos ontwikkel vanaf die negende eeu en waarvan die tekste in Latynse vertaling eers vanaf die laat 11de eeu beskikbaar gestel is. ’n Beduidende aantal Arabiese filosowe was in die eerste plek geneeskundiges, van wie Ibn Sina (Avicenna; AH370–AH428 / 980–1037) ongetwyfeld die mees wydgelese in die 12de-eeuse Weste was (Beukes 2018c:577–83).22 Hoewel Ibn Sina in sy vyf-volume-geneeskunde-ensiklopedie, al-Qānūn fī al-ibb (Latyn: Liber canonis totius medicinis cordialibus, et cantica), urologiese kwessies in beide geslagte na nier- en blaasfunksies herlei, onderskryf hy die gevestigde dog androsentries-ideologiese Arabiese opvatting dat manlike ejakulaat die suiwerste substansie is wat moontlik in die menslike liggaam geproduseer kan word. Daarom herlei Ibn Sina die fisiologiese oorsprong van die manlike orgasme en gevolglike ejakulaat reeds in die eerste volume van Liber canonis na funksies van die lewer as ten diepste ’n suiweringsorgaan (Siraisi 1987:128;359–76; Borris 2004:121–38).23

In die derde volume van Liber canonis tref Ibn Sina egter ’n onderskeid wat diep-internaliserend in vroulik-mistieke liggaamsubjektiwiteit vanaf die 12de eeu neerslag sou vind. Hy is naamlik van mening dat vroulike orgasme en die produsering van vroulike ejakulaat (urine uitgesluit; vaginale vloeistowwe, van welke ander aard ook al, ingesluit) nie die gevolg is van lewerfunksies of enige rol wat die inwendige en uitwendige vroulike geslagsdele24 in hierdie verband sou speel nie, maar dat slegs enkeldele van die vroulike liggaam afsonderlik en samehangend tot orgasme en vroulike ejakulasie meewerk, in besonder die hart, hare (insluitende okselhare en skaamhare), are (en bloed), die gebeente (veral heupbene)25 en beenmurg. Ibn Sina se bedoeling is duidelik: Waar die manlike orgasme en gevolglike ejakulasie na ’n betreklik eenvoudige libidinale vitaliteit op grond van gesonde lewerfunksies terugkoppel, is die vroulike orgasme fisiologies kompleks en die resultaat van die individuele funksies van en samehang tussen liggaamlike enkeldele. Belangrik daarby is dat ’n orgasme van beide partye as voorwaarde vir geslaagde vrugverwekking verstaan is, indien vrugverwekking wel as opset vir ’n betrokke seksuele kontak gedien het (Jacquart en Thomasset 1985:65).

Hoewel geeneen ’n erotiese aanspraak in die 12de en 13de eeue gerig het nie en uitsluitlik met voortplanting en voeding geassosieer is, beweeg Ibn Sina nie geheel verby die individuele liggaamsaanspraak van die baarmoeder en borste nie. Hy merk na sy anatomiese waarneming ’n direkte skakel tussen die borste en baarmoeder met verhoogde bloedvloei na beide deur ’n komplekse stelsel van kleiner en groter are aan. Waar ’n gesonde lewer by ereksie, manlike orgasme en kwantitatiewe ejakulasie deurslaggewend belangrik geag is tot effektiewe geslagsgemeenskap (en vrugverwekking, indien dit die opset was), word gesonde bloedsomloop by vroue as ’n voorwaarde vir orgasme (en vrugverwekking – nogeens, indien dit die opset was) geag. Juis die vroulike are en slagare is in hierdie sin as die mees wesenlike voortplantingsorgaan geag, tot selfs ’n groter mate as die lewer by manlike subjekte (Jacquart en Thomasset 1985:60). Waar manlike ejakulaat vroeër as die “suiwerste menslike liggaamsvloeistof” en toonaangewende fisiologiese voorwaarde vir voortplanting geag is, word (vroulike) bloed en bloedverspreiding hiermee as die uitdruklike en uiteindelik beslissende vroulike voorwaarde vir wedersydse orgasme en daarom vir effektiewe vrugverwekking aangebied. Menstruasie is gevolglik eenvoudig verstaan as die uitskeiding van surplusbloed uit die gesonde vroulike liggaam, terwyl menopousale gloede geassosieer is met ’n steriele seksuele nostalgie (omdat daar geen verdere surplusbloed was nie), met inbegrip van ander (na Ibn Sina se waarneming) menopousale veranderinge in die ouer vroulike liggaam wat seksuele kontak problematiseer (sonder dat dit na sy eie aanwysing noodwendig seksuele begeerte elimineer), waaronder vaginale droogheid, blaas- en urienwegprobleme.

Feitlik elke liefdesmistikus in die sentrale Middeleeue isoleer op die een of ander plek ook die gebeente. Die vroulike gebeente as sodanig is op geen stadium in die Middeleeue van ’n seksuele lading voorsien nie, maar vroulike beendigtheid is wel wyd verstaan as die neweproduk van gesonde vroulike ejakulaat of die gereelde produsering van vaginale vloeistowwe. ’n Sterk skelet, veral heupbene, is in daardie sin wel eroties verstaan (Sauer 2013:131). Die subteks was natuurlik dat ’n seksueel-aktiewe, vrugbare vrou inderdaad ook ’n andersins gesonde vrou sou wees – en uiteraard sou dit in Middeleeuse terme slegs ’n getroude vrou met soveel kinders as moontlik kon wees. En dit was die vroulike mistici as oorwegend maagdelike nonne en begyne natuurlik nie.

Tydens hulle visioenêre en ekstatiese (dikwels orgasmiese) belewenisse fetisjiseer en erotiseer hierdie mistici vanaf die 12de eeu gevolglik onder meer die hart, hare, are, bloed, gebeente en beenmurg as mistieke en liggaamsubjektiewe fragmente. Hierdie enkeldele van die vroulike liggaam werk afsonderlik en samehangend mee tot ’n sonderlinge vroulike orgasme, wat deur hulle as ’n vorm van diep geestelike ekstase beskou is (in Latyn raptus, van die werkwoord rapio, wat letterlik “gryp” of “wegraap” beteken, en in die passief, rapitur, “om gegryp” of “om weggeraap te word”). Manlike orgasme en ejakulasie (met inbegrip van die kwynende invloed van die 11de-eeuse kerklik-tegniese definisies en konvensies ten opsigte van die onderskeid tussen rasionele of “natuurlike” en irrasionele of “teennatuurlike” geslagsgemeenskap, ingeslote onanisme26) is beskou as ten diepste fisiologies en die tasbare voorwaarde vir enige moontlikheid op geslaagde vrugverwekking. Vroulike orgasme, daarenteen, is nié as ’n ten diepste fisiologiese reaksie verstaan nie, maar as “affektief”, en selfs in alledaagse sin as ’n vergeestelikte antwoord op die seksuele ervaring van die dualiteit van Self en Ander, van (die eie en die ander se) liggaam en siel begryp. Vroulike orgasme, ervaar deur hetsy ’n geordende non, ’n aweregse mistikus of ’n beskeie vroueleek in die sentrale Middeleeue, was in hierdie sin altyd ’n antwoord en nie ’n woord nie; ’n reaksie en nie ’n inisiatief nie.

Dit beteken egter hoegenaamd nie passiwiteit nie. In hulle mistieke ervarings bied die vroulike denkers juis reaksiefragmente van hulle liggame aan wat aktief meewerk om ’n soort “goddelike orgasme” (Baldwin 1994:129) te bereik – die mistieke raptus wat in mundane terme bloot op tegelyk die hoogtepunt en afloop van ’n seksuele ontmoeting tussen twee volwasse mense sou moes dui. Ook al duur sogenaamde wegraping slegs sekondes, vind daar ’n outentiek-Middeleeuse, Maximiaanse sintese van die fisieke en die simboliese, van die menslike en die Goddelike, en van seksuele begeerte en geestelike vervulling plaas. Die raptus was dus nie die produk van masturbasie27 nie, maar van ’n intens-andertalige, radikaal-gesintetiseerde en ervaringsgedrewe toewyding. In hierdie sin funksioneer die vroulik-mistieke raptus as ’n Halesiaanse poging om ’n transendente, ervaringsgedrewe en radikaal-gesintetiseerde kennis van God intiem te “verwoord” – wat terselfdertyd dialekties op ’n verbrokkeling van die Self en ’n eenwordingsherstel met die hoogste Ander dui. Met hierdie geestelike subjektiwiteit, gestu deur die diskursiewe bronne van vroulike mistiek in die sentrale Middeleeue – andertaligheid, radikale sintetisering, ervaringsgedrewe epistemologie en ’n intieme inkarnasieleer – en hierdie liggaamsubjektiwiteit, gevorm deur die prioritisering, fetisjisering en erotisering van enkeldele van die vroulike liggaam, met die bykomende internalisering van voorskriftelike mediese konvensies oor die aard en unieke funksies van daardie sonderlinge liggaam, kom hierdie vroulike mistici in subtiele verset teen wydgaande essensialistiese beskouinge oor vrouwees in die sentrale Middeleeue, juis ten opsigte van hulle eie liggaamlikheid en spiritualiteit.

Aangesien hierdie tekste deur vroue vir ’n oorwegend en dikwels uitsluitlike vroulike adres aangebied is, kon hierdie mistici ’n geslagsubjektiwiteit ontwikkel wat – hoewel uitermate uitdagend – binne die kultureel soepel en taboe-oorstygende parameters van die 12de en eerste helfte van die 13de eeue as toelaatbaar geag is, en as ’n transenderende verset teen komplekse taboes ondermynend kon optree (vgl. Beukes 2020e:5–8).28 Die sleutel tot hierdie vernuwende geslagsubjektiwiteit was die opwekking van vroulike seksuele begeerte binne ’n radikale vergeestelikte konteks, met tydgenootlike kosmologiese en mediese konvensies as kultureel bemiddelend daartoe. Presies dít lê aan die hart van liggaamsfragmentering in die vroulike mistiek tydens die sentrale Middeleeue.

3.3 Fragmentering en raptus in vroulike mistieke literatuur tydens die 12de en 13de eeue

Alhoewel chronologies ná Hildegard, kan Hadewijch van Antwerpen (fl. 1240)29 as die vernaamste eksponent van Middeleeuse liefdesmistiek aangedui word (Dronke 1984:202–28; Beukes 2020c:1–3). Soos by elkeen van haar vroulike medegangers en opvolgers in die Middeleeue speel ’n kombinasie van intense liefde vir God en mistieke raptus ’n belangrike rol in haar werk – maar by Hadewijch word hierdie kombinasie tot ’n filosofiese werksbegrip ontwikkel. Waar die opvatting van ’n “Ciceroniaanse liefde” by Héloïse (Beukes 2019b:4), liefdesmistieke “andertaligheid” by Hildegard (per “Hildegardismes”; vgl. Beukes 2019a:88) en ’n “etiek van die ervaring van liefde” by haar begynvoorganger Mechtild (Beukes 2019c:3) teologies deurslaggewend was, ontwikkel Hadewijch ’n tematiese liefdesmistiek waar die verhouding tussen God en mens voluit erotiese karakter verkry. Vergelyk hierdie treffende (en ’n tipiese) voorbeeld van Hadewijch se liefdesmistiek:

Op ’n Pinkstersondag het ek ’n visioen met dagbreek ervaar. Psalms is in die kerk gesing en ek was daar teenwoordig. My hart en are het warm en vinnig met suiwer bloed geklop en my heupbene het gebewe en geruk van begeerte. ’n Waansin en vrees het besit van my geneem, dat indien ek my Geliefde nie tevrede stel nie en my Geliefde my begeerte nie vervul nie, ek waansinnig sal sterf en sterwend waansinnig sal word. Op daardie dag was my verstand so angstig en pynlik in besit geneem deur ’n begerende liefde dat dit gevoel het my afsonderlike liggaamsdele gaan skeur en dat my are uitmekaar gaan spat. (Visioen 7; Hadewijch 1980:280; sien Mommaers 1980:xiv en Wolfskeel 1980:150; my kursivering)

Hierdie en soortgelyke beskrywings van haar in-God ervarings tel onder die mees gewaagde en uitdagende passasies waaroor die hele korpus van Middeleeuse mistieke literatuur beskik, en waarna De Paepe (1967:1) in sy gesaghebbende kommentaar oor Hadewijch inderdaad as ’n “profane minnelyriek” verwys. Christus as juis man word voorgestel as andertalig en ervaringsgedrewe só radikaal toeganklik en intiem-geïnkarneerd dat toegelaat word dat die Eerste Persoon self op so ’n ondenkbare en onverwoordbare wyse in besit geneem kan word. Vergelyk meegaande enkele ander soortgelyke aanhalings uit Hadewijch se provokatiewe liefdesmistiek (al die kursivering is deur my):

Mag God jou toelaat om Hom te ken, wie Hy is en hoe Hy met sy diensmaagde omgaan – en mag Hy diep in jou wees (1980:66:9 reël 4).

Begeerte vir God is soms so soet dat dit nie geheel as te versoen met God geag kan word nie, omdat dit uit die ervaring van die sintuie eerder as uit genade en uit die ervaring van die natuur eerder as uit die geestelike, spruit (1980:10:66–7 reël 7).

Waarin ’n mens ook al die hoogste liggaamlike plesier vind, buiten in God, is vraatsug (1980:79 reël 79).

Die kriterium vir liefde is soetheid. Bernardus het mos al gesê: “Jesus is soet in jou mond.” Om van die Geliefde te praat is die hoogste soetheid, dit wek in my mond ’n onmeetlike Liefde op (1980:79 reël 111).

Wanneer twee dinge een word, mag niks tussen hulle staan behalwe dit wat hulle een gemaak het nie. Dit is Liefde, waardeur God en sy geliefde siel een word (1980:80 reël 28).

Ek sterf in my Geliefde, ek smelt weg in Hom en niks bly vir my van myself oor nie (1980:80 reël 30).

Dit is die eenheid van die suiwerste liefde met Hom, die liefde in eenwording met God, wat insluit sy toewyding, sy manlikheid, sy vermoë (1980:83 reël 57; beide “manlikheid” en “vermoë” word hier in terme van die Latynse seksuele vernakulêr aangebied).

Vanoggend het die Seun my gesoen ... en ek het een met Hom geword. Die Vader het my een met Hom gemaak en Hom een gemaak met my (1980:84 reël 104).30

Hadewijch se Vlaamse tydgenoot Beatrijs van Nazareth (ca. 1205–1268)31 beskryf insgelyks ’n ekstaties-mistieke ontmoeting met Christus in haar Seven manieren van heilige minnen aldus:

Soms is liefde so onbegrensd en oorspoelend vanuit die siel na die liggaam dat dit vir die siel voorkom of haar [liggaam se] are bars, bloed spuit, beenmurg gloei, gebeente verdamp, hart verbrand en keel verdor, sodat die liggaam in elke deel daarvan hierdie inwaartse hitte ervaar – en dit is die koors van liefde; [...] na afloop van hierdie vervulling is dit asof my ledemate verdamp, my hart smelt, my fakulteite ineenstort [...] my ledemate en sintuie verloor alle selfstandige vermoë. (Beatrijs van Nazareth 2019:V [De vijfde manier van minne §5]; my kursivering)

Steeds binne die konteks van liefdesmistiek bied die vermelde Duitse Benediktyn Hildegard, naas haar hiperspesifiserende Hildegardismes (vgl. 3.1; eindnota 20) talle visioene aan waarin die gefragmenteerde liggaam en ’n fokus op enkeldele van die vroulike liggaam prominent figureer. ’n Goeie voorbeeld is ’n verwysing in die tabel van deugde en ondeugde in haar Vitae Meritorum (Beukes 2019a:83–5), waarin enkeldele van die liggaam prominent teenoor mekaar gestel word. In die tabel bespreek Hildegard onder meer die ondeug luxuria, wat semanties vertaal kan word as die koestering van seksuele impulse, teenoor castitas, oftewel proaktiewe kuisheid. Die gangbare positiewe betekenisgewing aan die kleur wit in die Middeleeue en die purgatoriese effek van vuur word in ’n duidelik-bedoelde ommekeer as ’n perversie van die goeie beskryf:

Luxuria [...] het, om dit so te stel, die vorm van ’n vrou gehad wat op haar regtersy gelê het met haar bene hoog opgetrek teen haarself, soos iemand wat in ’n bed slaap. Haar hare en skaamhare was vlamme van vuur en haar spierwit [...] sy het wit skoene aan haar voete gehad wat nat en glad was, sodat sy nie daarin kon loop of staan nie. Uit haar mond het daar ’n mistigheid geblaas en het die giftigste spoeg uitgeloop, terwyl iets wat gelyk het soos ’n wilde hond aan haar regtertepel en iets soos ’n adder aan haar linkertepel gesuig het. Met haar hande voor haar uitgestrek het sy blomme nadergetrek en die soet reuk diep in haar neusgate opgetrek. Sy was kaal en het gegloei van wellus [...] alles rondom haar was andersins droog soos hooi.32 (Hildegard 1995:VMIII21; my kursivering)33

Hoewel ’n ander Duitse Benediktynse non, Gertrude von Helfta (1256 – ca. 1302), haar ekstatiese ervaring nie uitdruklik as ’n liefdesmistieke begeerte verwoord nie, verwys sy na dieselfde twee liggaamsdele as Hadewijch en Beatrijs (gebeente en beenmurg) terwyl sy met uitdruklik seksuele ondertone na ’n vorm van penetrasie verwys:

Ek het lig in my voel binnegly [...] wat my hele innerlike wese gepenetreer het en in elke liggaamsdeel ’n buitengewone skokgolf gestuur het. Eers het ek gevoel dat dit die murg in elke been in my liggaam verbrand; daarna het my hele gebeente en weefsel weggesmelt in niksheid. (Gertrude 1991:158; vgl. Sauer 2013:133; my kursivering)

Waar bostaande liefdesmistiek die intense begeerte na God beklemtoon en inderdaad blootgestel voor die afwesigheid daarvan staan, benadruk wesensmistiek ’n toestand van konstante vrede vanuit die met God verenigde siel, sonder dat die rol van die liggaam onderbeklemtoon word. Wesensmistiek verskil wel uitdruklik van liefdesmistiek met betrekking tot die afwesigheid van die erotisering van dele van die vroulike liggaam. Nietemin speel die liggaam wel ’n belangrike funksionele rol in die wesensmistieke werke Das fließende Licht der Gottheit deur Mechtild von Magdeburg (ca. 1207 – ca. 1282; Beukes 2019c:1–8) en die Mirouer des simples âmes anienties (in Latyn vertaal as Speculum simplicium animarum) deur Marguerite Porete (1250–1310); Beukes 2020b:200–25).

Diep onder die indruk van Pseudo-Dionisius se interpretasie van ’n Neoplatoniese kosmos, saamgestel uit en georden deur vervlietende beweging en liefde, met die aktiewe eenwording van die menslike en die Goddelike as die wedersydse oogmerk van God en mens, ontvou Mechtild se aardse en diep-liggaamlike antropologie. Hoewel die fisiese wêreld vir haar ’n versoekingsvolle plek is wat bogenoemde oogmerk tot eenwording tussen God en mens voortdurend uitdaag, neem sy haar voor om “die wêreld nie te bespot nie” (Mechtild 1980:1:2:5, 3:5:66).34 In ooreenstemming met haar Middeleeuse voor- en medegangers se algemene afkeer van die wêreld gebruik sy dikwels afwysende taal wanneer sy oor die wêreld praat: as “stof”, “vuil” en die liggaam as die “vyand” en “kerker” van die siel (vgl. 1980:4:2:94, 5:22.145). Tog onderbreek Mechtild hierdie afwysinge deur reguit oor liggaamlike behoeftes te praat, insluitende libidinale begeerte, en wys daarop dat die “korrupsie van alle dinge” in sonde (vir haar beteken dit die afstanddoening van die verhoudingsmoontlikheid tussen mens en God) tot uitdrukking gebring word, en nie in die wêreld of liggaamlikheid as sodanig nie (bv. 1980:1:3:6, 1:46:24, 2:25:49; 3:1:88). Die liggaam kan selfs ’n instrument vir verlossing wees wanneer dit positief gebruik word om die spontane wil (wat sy in die moderne Duitse vertaling Selbstwille, “self-wil” noem), of dit in die siel of in die liggaam self tot uitdrukking gebring word, te oorkom. Boonop betoog sy in die kenmerkende styl van die begyne dat die deugde juis deur die liggaam beoefen word, goeie werke gedoen word en daar wel meriete mag wees, watter sprake daar ook al van meriete in hierdie verband mag wees, in die tegnies-instrumentele sin van liggaamlike barmhartigheid: om “jou liggaam en beweging uit te leen vir ’n ander” (of “brood moet aangedra word, dit kom nie vanself by die verhongerdes uit nie”, 1980:5:22:145; sien ook 6:6:180, 6:15:189, 6:26:201). Seksuele kuisheid is wel ’n deug, maar by Mechtild is dit nie ’n wesenlike kwessie nie, aangesien sy alle erotiese en libidinale energie na God self projekteer (“Die siel is God se vriend, beminde en huisvrou”; vgl. 1980:3:1:59, 4:14:108). Sy waardeer kuisheid andersins positief as ’n teken van toewyding, eerder as ’n stryd teen versoeking of ’n vorm van seksuele vermorsing.

Marguerite (1986; Beukes 2020b:207–11) vind die liefdesmistieke benadering ontoereikend, juis omdat sy wil fokus op die moontlikheid van ’n “vereniging van ononderskeibaarheid”, waarin die menslike siel en God verenig word sonder enige onderskeid (sy gebruik byvoorbeeld die twee terme unitas indistinctionis [ononderskeibare eenheid] en unio sine distinctione [eenheid sonder onderskeid] afwisselend). Wesenmystik beklemtoon die skepping van die siel imago Dei, wat vir Marguerite ’n ontologiese status beteken wat die Dionisies-Neoplatoniese reditus, of terugkeer van die siel na God, bemoontlik. Sy neem by voorkeur ’n verskeidenheid van liggaamlike metafore oor wat begrippe soos vereniging sonder onderskeid en terugkerende reditus effektief simboliseer – onder meer ’n ouer vrou wat nie langer menstrueer nie, seksuele roes en (alkoholiese) dronkenskap. ’n Vereniging van ononderskeibaarheid tussen mens en God is volgens Marguerite moontlik omdat die siel van die Drie-eenheid ’n “afdruk” ontvang van “wat was”, naamlik “voor die val” en “voor geen ding” (Beukes 2020b:209). Hierdie “afdruk” geld egter wedersyds: Soos wat die Drie-eenheid “afgedruk” is op die siel, is die siel “afgedruk” op die Drie-eenheid en daarom in staat tot ’n blywende eenwording met die Godheid in júis ’n beliggaamde toestand. Eenmaal geëlimineer deur die vrye wil, beskik die siel oor geen wil meer nie en staan daarom nie blootgestel voor die afwesigheid van begeerte of opgewonde voor die ekstase daarvan nie. Waar Hadewijch en Beatrijs se liefdesmistiek die intense begeerte na God beklemtoon en inderdaad blootgestel voor die afwesigheid daarvan staan, benadruk Marguerite se wesensmistieke sielseliminering ’n toestand van konstante vrede vanuit die met God verenigde siel. Daar verskyn in wesensmistiek dus nie dieselfde soort aksentplasing op liggaamsfragmentering en individuele liggaamsdele as in liefdesmistiek nie. Tog word die liggaamlike aanspraak nie algeheel verbygegaan nie.

Hoewel sy na my lesing as ’n politieke aktivis eerder as ’n mistikus gereken kan word (mistieke elemente kom wel sporadies in haar werk voor), figureer ’n idiosinkratiese liggaamsfragmentering wel in die Liber celestis revelaconium van die Sweedse denker Birgitta Birgersdotter (1302/3–1373; sien Beukes 2020g:1–5). Reeds vroeg in die werk, waarskynlik geskryf net na haar aankoms in Rome vanuit Swede in 1349, vaar Birgitta hardhandig uit teen ’n eminente kerklike amptenaar wat sy nie uitdruklik identifiseer nie, maar wat weldra blyk die diensdoende pous te Avignon (Clemens VI, Pierre Roger, 1291–1352, pous vanaf 1342 tot 1352) te wees:

Mense dink dat hy ’n smaakvol geklede, sterk en waardige man is, aktief in diens van die strydvoeringe van die Heer. Wanneer sy hoofbedekking egter afgehaal word, is hy weersinwekkend om na te kyk en duidelik onbevoeg vir enige werk. Sy harsings is ontbloot, sy ore sit teen sy voorkop en sy sit teen sy agterkop. Sy neus is afgesny. Sy wange is ingesonke soos dié van ’n dooie. Aan die regterkant van sy gesig het sy wangbeen en lippe weggeval, met niks anders om te sien as ontblote tande en ’n dooie keel nie. Sy bors is vol wriemelende wurms; sy arms is soos twee slange. ’n Bose skerpioen nestel teen sy hart en sy rug lyk soos warm kole. Sy ingewande stink en is verrot soos septiese weefsel; sy voete is dood en nutteloos om mee te probeer loop. (Birgitta 2006:I:23:89–91; my kursivering)35

Hierdie dramatiese beeld is ’n bitter en snydende aanklag teen korrupsie en pligsversuim, waarmee Birgitta die verwording van die kerk en veral die selfkoesterende pousdom in die 14de eeu konfronteer. Waar die pous as minister Dei sedert die middel van die derde eeu met martelaarskap ter wille van die arm en vervolgde gelowiges in Rome geassosieer is, is daardie historiese martelaarsetel in Rome verruil vir die weelde van Avignon. Clemens VI het ook Birgitta se skriftelike versoek vroeg in 1349 om die setel te Avignon te ontruim en terug te keer Rome toe, met minagting verwerp. Birgitta en Clemens VI was van daar af tot sy dood in 1352 openlike vyande. Hoewel dit ’n manlike liggaam is wat op hierdie wyse fragmenterend gespesifiseer word, konformeer Birgitta duidelik aan die voortgaande tendens tot liggaamsfragmentering tot nog in die eerste helfte van die 14de eeu. Dieselfde soort fragmentering van die liggaam en uitdruklike spesifisering van liggaamsdele kom ook in die vierde volume van Liber celestis revelaconium voor.36

Elkeen van die gedeeltes uit die tekste van in besonder liefdesmistici uit die sentrale Middeleeue roep dus enkeldele van die vroulike liggaam op wat opeenvolgend bygedra het tot ’n ervaring van intieme eenwording, tot uitdrukking gebring in die andertalige paradoks van raptus as uniek-vroulike orgasme, ’n interne ontploffing wat nie uitmekaar neem nie maar die enkeldele juis bymekaar bring. Die liggaamsfragmente van veral die hart, are, hare, bloed, gebeente, beenmurg, weefsel, heupbene, regtersy, skaamhare, neusgate, keel, tepels en mond, met nadruk op die sintuiglike ervaring daarvan as gefragmenteerd, staan voorop in hierdie mistieke aanbiedinge. Die afsonderlike dele van die liggaam werk saam om ’n andertalige fragmentervaring daar te stel, gekwalifiseer deur intensiverende begrippe soos bewe, begeerte, hoogste liggaamlike plesier, gloei van wellus, skokgolf, inwaartse hitte, ervaring deur die sintuie, ruk, pluk, vuur, spuit, smelt, verdor, verdamp, ineenstort, warm, vinnig, koors, sterwend, angs en pyn. In wesensmistiek val die klem ontologies op die siel, sonder dat die diskursiewe aanspraak van die liggaam verdaag word. Die fragmentering van die liggaam figureer ook duidelik nog so laat as by Birgitta in die eerste helfte van die 14de eeu. Die spontane vraag is hoe ’n vroulike liggaamsherstel bewerk sou kon word in die nagloed van mistieke raptus? Vir die vroulike mistici sou dit sakramenteel en opnuut heilig-betekenend móés wees.

 

4. Sakramentele raptus en die mistieke eenwording met God

Die sakrament van die Nagmaal word in die Christelike tradisie wesenlik met geestelike voeding en ’n herstel van ’n sondig-aardse gebrokenheid deur die liggaam en bloed van Christus geassosieer. Betekenisvol en opvallend vind die andertalige, ervaringsgedrewe en radikaal-gesintetiseerde raptus dikwels plaas juis binne hierdie konteks van voeding en herstel by die Nagmaal. Afgesien van ’n intieme verbinding met die liggaam en bloed van die vleesgeworde Christus, is hier ook sprake van vertering; dit is, om daadwerklik te verinwendig. Brood en wyn – voedsel en drank – is hiervan sowel die medium as die teken.

Honger en dors of ’n dringende aptyt vir voedsel en drank is juis in die 12de eeu met vroulike seksuele honger of erotiese aptyt geassosieer, onder andere in die wyd verspreide teks Die geheime van vroue (ook bekend as die Pseudo-Albertus Magnus), waarvolgens gereken is dat vroulike aksies van eet en drink bloed en hitte binne die vulva produseer (vgl. Sauer 2013:135). Gevolglik vertoef talle vroulike mistici by die Nagmaal as ’n geestelike maaltyd wat die mistieke gloed van die raptus aanwakker en in die nagloed daarvan tot meditatiewe en kontemplatiewe besinning meewerk.

Vermelde Gertrude von Helfta (1991:119–21) se ervaring van hierdie verwarmende gloed stel ’n uitdruklike verband tussen (geestelike) voedsel en (geestelike) begeerte:

[N]adat ek die brood van die lewe ontvang het en my intens op God gerig het, het ek ervaar dat my siel, verwarm en versag soos kerswas by ’n vlam, op die Heer se bors gelê het, asof verseël [...] O, verterende gloeiende kool, my God [...] O, waarlik verbrandende vuur [...] O, kragtige smeltoond [...].

Abdis Juliana van Liège (ca. 1192–1258), die aanvanklike skrywer van die wyd verspreide gebedsboek Animarum cibus en bekend vir haar liturgiese werk rondom die Nagmaal, het herhaaldelike raptus-ervaringe gehad direk na ontvangs van die sakrament, waarna sy insgelyks verwys as gebeurtenisse waar “my siel gesmelt het soos was by ’n vuur” (Juliana van Liège 1999:39). Juliana het ná sodanige raptus-ervaringe kenmerkend vir ’n week lank geweier om te praat, “asof letterlik in weggeraapte toestand” (Sauer 2013:135).

Dorothea von Montau (sien weer eindnota 30) bied na ’n beskrywing van haar biograaf, die teoloog Johannes von Marienwerder (1343–1417), ’n soortgelyke ervaring as dié van Gertrude aan:

Gedurende die tyd van haar ernstige siekte het sy ’n onversadigbare honger en dors ervaar na die liggaam van die Heer, wat daarna nooit weer gestil of geles kon word nie. Hierdie begerende honger en dors was ’n geskenk van die Heer wat haar siel hoog opgeneem en versorg het met ’n vlammende begeerte vir Hom [...] Sy eenwording met haar is radikaal. (Marienwerder 1997:106; 85)

By Gertrude, Juliana van Liège en Dorothea ontlok die hemelse voedsel, die liggaam van Christus, dus direk, maar tog sakramenteel-bemiddeld, hitte, gloed en begeerte. Hoewel Dorothea se Engelse tydgenoot, ’n ander Juliana, dié van Norwich (1342–1416; Beukes 2020d:7–10), nie ’n liefdesmistiek as sodanig bedryf het nie, is daar in haar beeld van Christus as moeder (Moder Jhesu) vroulik-liggaamlike verwysings aan te tref. Met hierdie verrassende vroulike beeld wil Juliana die wesenlike aan Christus se vleeswording ondervang. God het mens geword om die mens te versorg soos wat net ’n moeder ’n kind kan versorg, met die sonderlinge teerheid en deernis wat ’n moeder vir haar kind het:

[A]s I understode in menyng of oure lord: how that we be brought agayne by the motherhed of mercy and grace in to oure kyndly stede, where we ware in, made by moderhed of kynd loue [...] Oure kynde moder, oure gracious modyr, for he wolde alle hole become oure modyr in alle thyng [...] The moders servyce is nerest, rediest and suerest: nereset for it is most of kynd, rediest for it is most of loue, and sekerest for it is most of trewth. (Juliana van Norwich 1978:594–5)37

Naas die versorgende kwaliteit van hierdie vroulike beeld open Juliana daarmee ook die tema van voeding en onderhouding. In dieselfde hoofstuk (Juliana van Norwich 1978:594–5) word die geestelike voeding van gelowiges by die Nagmaal met borsvoeding vergelyk. Moder Jhesu voed die gelowiges deur wat uit Haar/Sy liggaam afkomstig is, en soos wat ’n moeder ’n baba aan haar bors soog, laat Christus die gelowiges aan die oop wond aan Haar/Sy sy nestel. Daarby vergelyk Juliana die pyn van die gekruisigde Christus met geboortepyn – met dieselfde selfloosheid waarmee ’n aardse moeder daardie onvoorstelbare pyn ter wille van die moontlikheid tot lewe verduur, skenk Moder Jhesu aan mense die moontlikheid tot lewe deur Haar/Sy lyding.

Die Franciskaanse Claris-non Angela van Foligno (1248–1309) bied ’n selfs skerper erotiserende ervaring by gebruik van die Nagmaal aan:

Na ontvangs van die sakrament en ’n diepergaande verstaan van die betekenis van die kruis is ’n groot vuur in my aan die brand gesteek [...] ek het langs die kruis gestaan, my kaal uitgetrek en myself volledig vir Hom aangebied [...] by die aanskoue van die gekruisigde Christus het al my inwendige organe gaan staan. (Angela 1986:255; 13)

Deur slegs ’n deel van Christus te verinwendig en verteer, skenk Angela haarself as ’n geheelde geheel dus liggaamlik en geestelik onvoorwaardelik aan Hom.

Raptus binne die sakramentele konteks van die Nagmaal het ’n voedende, herstellende en opnuut heilig-betekenende lading. Waar daar ’n gefragmenteerde liggaam was, word daardie enkeldele wat begeerte as lewensdriftelike impetus geskep het, in die Nagmaal byeengebring en geheel. Hierdie geheelde geheel is post-raptus ’n volkome ander entiteit as dit wat voor die fragmenterende ervaring daar was; die geheelde mens-vrou is nou radikaal gesintetiseerd en intiem een met Christus. In hierdie sin was die vroulike mistici die ontwerpers van hulle eie fragmentering – maar ook medeskeppers van ’n tot eenheid herstelde Self.

 

5. Samevatting en gevolgtrekking

Mistiek-vroulike liggaamsfragmentering in die sentrale Middeleeue sou verstaan kon word as ’n poging tot die ontwikkeling van ’n unieke geslagsubjektiwiteit deur die opwekking van vroulike seksuele begeerte binne ’n radikale vergeestelikte konteks, met tydgenootlike kosmologiese en mediese konvensies as kultureel bemiddelend daartoe. Die liggaamsfragmentering van hierdie vroulike mistici, soos andertalig tot uitdrukking gebring in hulle raptus-ervaringe, het hulle in staat gestel om ’n vorm van persoonlike agentskap te behou terwyl daarmee ’n getransformeerde subjek geskep is wat as waardig tot radikale eenwording met God geag is. Middeleeuse kosmologiese beginsels en tersaaklike mediese konvensies het ’n behoorlike strukturering van vroulike seksualiteit in die 12de en 13de eeue bemoontlik. In die bewustelike keuse om enkeldele van die vroulike liggaam wat as voorwaarde vir vroulike orgasme geag is, te aksentueer, gaan die vroulike mistici ’n mundane erotisme verby en behou hulle sonderlinge subjektiwiteit, totdat hulle kies – en selfstandig kies – om dit andertalig, gesintetiseerd en intiem aan hulle Geliefde Een toe te vertrou.

Dit is dus moontlik om aan te dui dat die fragmentering van die vroulike liggaam, ingevolge waarvan eerder op die verbrokkelde dele en betreklikheid van daardie liggaam as op die eenheid en heelheid daarvan gefokus word, ’n onderbeklemtoonde maar aantoonbare tendens in die werke van etlike prominente vroulike mistici in die sentrale Middeleeue verteenwoordig. Met bogenoemde jukstaponering van die tersaaklike gedeeltes in hierdie skrywers se werk kon die fragmentering van die vroulike liggaam as ’n unieke eienskap van vroulike mistiek in sowel die liefdesmistieke as die wesensmistieke trajekte in die sentrale Middeleeue uitgewys word. Gestu deur hulle diskursiewe bronne – andertaligheid, radikale sintetisering, ervaringsgedrewe epistemologie en ’n intieme inkarnasieleer – het die vroulike mistici van die 12de en 13de eeue ’n unieke antwoord verskaf op die vraag wat dit beteken om werklik aan iemand hoër as jouself te behoort. Dalk sou dit skerper retories gevra moes word: Wat beteken dit om werklik ’n heel mens in die gefragmenteerde gebrokenheid van alle dinge te wees?

 

Bibliografie

Adorno, T.W. 1980. Minima Moralia. Gesammelte Schriften 4. Frankfurt am Main: Suhrkamp.

Angela van Foligno. 1986. From the Liber de Vere Fidelium Experentia – The book of the experience of the truly faithful. E.A. Petroff (vert.). In Petroff (red.) 1986:254–63.

Arblaster, J. en R. Faesen. 2012. “Commune à tous par largesse de pure charité”: Common love in Beatrice of Nazareth and Marguerite Porete. Ons Geestelijk Erf, 83:297–323.

—. 2013. The influence of Beatrice of Nazareth on Marguerite Porete: The seven manners of love revised. Cîteaux: Commentarii Cistercienses / Revue d’Historie Cistercienne / A Journal of Historical Studies, 64:41–88.

Armstrong, A.H. (red.). 1967. The Cambridge history of later Greek and early Medieval philosophy. Cambridge: Cambridge University Press.

Baldwin, J.W. 1994. The language of sex: Five voices form Northern France around 1200. Chicago: University of Chicago Press.

Balthasar, H.U. von. 2003. Cosmic liturgy. The universe according to Maximus the Confessor. San Francisco: Ignatius Press.

Beatrijs van Nazareth. 2019. Over zeven manieren van heilige minne / On seven ways of holy love. W. van den Dungen (inl. en vert.). Antwerpen: lulu.com.

Beukes, J., 2018a. ’n Herlesing van Pseudo-Dionisius se metafisika. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 74(4), Art. #5111:1–9. https://doi.org/10.4102/hts.v74i4.5111.

—. 2018b. Die Arabiese trajek in die Karolingiese periode in Middeleeuse filosofie. LitNet Akademies, 15(3):502–64. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2018/12/LitNet_Akademies_15-3_Beukes_502-564.pdf.

—. 2018c. Die Arabiese trajek in die post-Karolingiese periode in Middeleeuse filosofie. LitNet Akademies, 15(3):565–626. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2018/12/LitNet_Akademies_15-3_Beukes_565-626.pdf.

—. 2019a. Hildegard von Bingen as ’n 12de-eeuse filosoof-teoloog. LitNet Akademies, 16(1):64–102. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2019/06/LitNet_Akademies_16-1_Beukes_64-102.pdf.

—. 2019b. Héloïse d'Argenteuil se filosofiese uitset. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 75(4), Art. #5281:1–12. https://doi.org/10.4102/hts.v75i4.5281.

—. 2019c. “Maak die wêreld nie tot bespotting nie”: ’n Herwaardering van die filosofiese aspekte in Mechtild von Magdeburg se Das fließende Licht der Gottheit (1250). Verbum et Ecclesia, 40(1), Art. #1965:1–8. https://doi.org/10.4102/ve.v40i1.1965.

—. 2019d. “Foucault se sodomiet”: Damianus se Liber gomorrhianus (1049) heropen. HTS Teologiese Studies / Theological Studies 75(4), Art. #5216:1–13. https://doi.org/10.4102/hts.v75i4.5216.

—. 2020a. Middeleeuse filosofie. Volumes I en II. Pretoria: Akademia.

—. 2020b. Die eliminering van die siel in die filosofiese mistiek en negatiewe teologie van die begyn Marguerite Porete (1250–1310). LitNet Akademies, 17(2):200–25. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2020/09/LitNet_Akademies_17-2_Beukes_204-229.pdf.

—. 2020c. The Trinitarian and Christological Minnemystik of the Flemish beguine Hadewijch of Antwerp (fl. 1240). HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 76(1), Art. 5865:1–10. https://doi.org/10.4102/hts.v76i1.5865.

—. 2020d. Juliana van Norwich (1342 – ca. 1416) as post-skolastiese teoloog. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 76(4), Art. #6001: 1–11. https://doi.org/10.4102/hts.v76i4.6001.

—. 2020e. Intervroulike seksualiteit in die latere Middeleeue: ’n Ideëhistoriese oorsig. Verbum et Ecclesia, 41(1), Art. #2074:1–13. https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2074.

—. 2020f. Die triomf van ’n post-skolastieke mistiek oor skolastieke lojalisme: Gersonius versus Ruusbroec (postuum), 1399. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 76(1), Art. #5672:1–12. https://doi.org/10.4102/hts.v76i1.5672

—. 2020g. Die politieke aktivisme van Birgitta Birgersdotter (1302/3–1373). Verbum et Ecclesia, 41(1), Art. #2134:1–12. https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2134.

—. 2020h. Omnium expetendorum prima est sapientia: Hugo van Saint-Viktor (1097–1141) en die probleem van hiperspesialisasie in die eietydse wetenskapsbegrip. LitNet Akademies, 17(1):262–97. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2020/04/LitNet_Akademies_17-1_Beukes_262-297.pdf.

—. 2020i. Foucault in Iran, 1978–1979. Kaapstad: AOSIS. https://doi.org/10.4102/aosis.2020.BK203.

—. 2021a. The case for post-scholasticism as an internal period indicator in Medieval philosophy. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 77(4), Art. #6270:1–13. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6270.

—. 2021b. Die “vyf trane” as mistieke uitdrukking in die Dialoë van die Dominikaanse non Katharina van Siena (1347–1380). HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 77(4), Art. #5672:1–9. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6553.

—. 2021c. The 50-year jubileum of the Society for the Promotion of Eriugenian Studies in the John Scottus Eriugena (815–877) research, 1970–2020. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 77(4), Art. #6456:1–12. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6456.

—. 2021d. Besinning oor filosofie in die kloostermistieke teks Hortus Deliciarum (ca. 1185) deur Herrada Landsbergensis (ca. 1130–1191). Verbum et Ecclesia, 42(1), Art. #2199:1–9. (In publikasie).

Birgitta Birgersdotter (Birgitta van Swede). 2006. Liber Caelestis I–III. The Revelations of St. Birgitta of Sweden, Volume 1. B. Morris (inl. en komm.). D. Searby (vert.). Oxford: Oxford University Press.

—. 2008. Liber Caelestis IV–V. The revelations of St. Birgitta of Sweden, Volume 2. B. Morris (inl. en komm.). D. Searby (vert.). Oxford: Oxford University Press.

Borris, K. 2004. Same-sex desire in the English Renaissance. Londen: Routledge.

Brown, J.N. en M. Segol (reds.). 2013. Sexuality, sociality, and cosmology in Medieval literary texts. New York: Palgrave MacMillan.

Brück, A.P. (red.). 1979. Hildegard von Bingen 1179–1979. Festschrift zum 800. Todestag der Heiligen. Mainz: Quellen und Abhandlungen zur Mittelrheinischen Kirchengeschichte.

Bynum, C.W. 1992. Fragmentation and redemption. New York: Zone Books.

Delio, I. 2003. Revisiting the Franciscan doctrine of Christ. Theological Studies, 64:3–23.

De Paepe, N. 1967. Hadewijch Strofische Gedichten. Een studie van de minne in het kader der 12e en 13e eeuwse mystiek en profane minnelyriek. Gent: Koninklijke Vlaamse Academie.

Dronke, P. 1984. Women writers of the Middle Ages: A critical study of texts from Perpetua to Marguerite Porete. Cambridge: Cambridge University Press.

Eckhart, M. 1936. Meister Eckhart. Vol. I: Die deutschen Werke. Vol. II: Die lateinischen Werke. Stuttgart: Kohlhammer.

Foucault, M. 1975 (1995-uitgawe). Discipline and punish: The birth of the prison. A.M. Sheridan (vert.). New York: Vintage.

—. 1976 (1978-uitgawe). The history of sexuality, Volume 1: The will to knowledge. R. Hurley (vert.). New York: Pantheon.

—. 1996. What calls for punishment? In Lotringer (red.) 1996:423–31.

Franc Combelis, R.P. (red.). 1865. Patrologia Graeca. Volumes 90 en 91. Parys: Migne.

Führkötter, A. 1979. Hildegard von Bingen. Leben und Werk. In Brück (red.) 1979:31–54.

Geary, P.J. 1990. Furta Sacra: Thefts of relics in the central Middle Ages. Princeton: Princeton University Press.

Gertrude von Helfta. 1991. The herald of God’s loving kindness. Books One and Two. A. Barratt (vert.). Kalamazoo: Cistercian Publications.

Gracia, J.J.E. en T.B. Noone (reds.). 2006. A companion to philosophy in the Middle Ages. Oxford: Blackwell.

Hadewijch van Antwerpen. 1980. Hadewijch: The complete works. C. Hart (inl. en vert.); P. Mommaers (inl.). New York: Paulist Press.

Hales, Alexander van. 1951–1957. Glossa in quatuor libros sententiarum. Quaracchi: Collegium S. Bonaventurae.

Higley, S.L. 2007. Hildegard of Bingen’s unknown language. New York: Palgrave Macmillan.

Hildegard von Bingen. 1855. Hildegardis Abbatissa. Migne, J.-P. en H.J. Floss (reds.). Patrologia Latina, 197 (Hildegard). http://patristica.net/latina.

—. 1903. Hildegardis Causae et Curae. Kaiser, P. (red.). Leipzig: Teubner.

—. 1978. Scivias. Führkötter, A. en A. Carlevaris (reds.). Corpus Christianorum: continuatio mediaevalis. Volume 43. SI, SII en SIII. Turnhout: Brepols.

—. 1993. Vita Sanctae Hildegardis. Klaes, M. (red.). Corpus Christianorum: continuatio mediaevalis. Volume 126. Turnhout: Brepols.

—. 1996. Hildegardis Bingensis Liber divinorum operum. Derolez, A. en P. Dronke (reds.). Corpus Christianorum: continuatio mediaevalis. Volume 126. Turnhout: Brepols.

Jacquart, D. en C. Thomasset. 1985. Sexuality and medicine in the Middle Ages. Princeton: Princeton University Press.

Juliana van Liège. 1999. The life of Juliana of Mont-Cornillon. B. Newman (red. en vert.). Toronto: Peregrina Press.

Juliana van Norwich. 1978. A book of showings to the anchoress Julian of Norwich. Volume II (The Long Text), 279–734. Colledge, E. en J. Walsh (reds.). Toronto: Pontifical Institute of Medieval Studies.

Liebeschütz, H. 1930. Das allegorische Weltbild der hl. Hildegard von Bingen. Leipzig: Teubner.

Lotringer, S. (red.). 1996. Foucault Live (Interviews, 1961–1984). Hochroth, L. en J. Johnston (verts.). New York: Semiotext(e).

Marguerite Porete. 1986. Speculum simplicium animarum. Corpus Christianorum 69. Brepols: Turnhout.

Marienwerder, J. von. 1997. The life of Dorothea von Montau, a fourteenth-century recluse. Sturgardt, U. (vert.). New York: Edwin Mellen.

Maximus Confessor. 1865. Ambigua. In Franc Combelis (red.) 1865.

Mechtild von Magdeburg. 1980. Offenbarungen der Schwester Mechthild von Magdeburg oder Das fließende Licht der Gottheit. Gall Morel, P. (red.). Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.

Mommaers, P. (inl.). 1980. Preface. In Hadewijch 1980:xiii–xxiv.

Muessig, C. 2012. Introduction. In Muessig, Ferzoco en Kienzle (reds.) 2012:1–22.

Muessig, C., G. Ferzoco en B.V. Kienzle (reds.). 2012. A companion to Catherine of Siena. Leiden: Brill.

Perl, E.D. 2006. Maximus Confessor. In Gracia en Noone (reds.) 2006:432–3.

Petroff, E.A. (red.). 1986. Medieval women’s visionary literature. Oxford: Oxford University Press.

Principe, W.H. 1967. Alexander of Hales’ theology of the hypostatic union. Toronto: Pontifical Institute of Mediaeval Studies.

Pseudo-Dionisius. 1990. Corpus Dionysiacum. B.R. Suchla, G. Heil en A.M. Ritter (reds.). Berlyn: Walter De Gruyter.

Rorem, P. 1993. Pseudo-Dionysius: A Commentary on the texts and their influence. Oxford: Oxford University Press.

Sauer, M.M. 2013. Divine orgasm and self-blazoning: The fragmented body of the female Medieval visionary. In Brown en Segol (reds.) 2013:123–44.

Sawdy, J. 1995. The body emblazoned: Dissection and the human body in Renaissance culture. Londen: Routledge.

Sheldon-Williams, I.P. 1967. The Pseudo-Dionysius. In Armstrong (red.) 1967:457–72.

Siraisi, N.G. 1987. Avicenna in Renaissance Italy: The “Canon” and medical teaching in Italian universities after 1500. Princeton: Princeton University Press.

St Viktor, R. 1855. Opera Omnia. Migne, J.-P. (red.). Patrologia Latina 196 (Mees onlangs op 25 November 2020 geraadpleeg).

—. 1958. De Trinitate. Ribaillier, J. (red.). Parys: Vrin.

—. 1979. The twelve patriarchs, The mystical ark, Book three of The Trinity. Zinn, G.A. (vert.). New York: Paulist Press.

Thunberg, L. 1985. Man and the cosmos. The vision of St. Maximus the Confessor. New York: St. Vladimir’s Seminary Press.

Toronen, M. 2007. Union and distinction in the thought of St Maximus the Confessor. Oxford: Oxford University Press.

Van Put, K. 2016. “About which we want to speak now”: Beatrice of Nazareth’s reason for writing Uan seuen manieren van heileger minnen. Journal of Medieval Religious Cultures, 42:143–63.

Waithe, M.E. (red.). 1989. A history of women philosophers. Volume II. Medieval, Renaissance and Enlightenment women philosophers. Dordrecht: Kluwer.

Wolfskeel, C. 1989. Hadewych of Antwerp. In Waithe (red.) 1989:141–66.

 

Eindnotas

1 Vir ’n uiteensetting van my datering van die ideehistoriese raamwerk van die Middeleeue (410–1464) en sesdelige interne periodisering van die Middeleeuse filosofiegeskiedenis (met betrekking tot die post-Romeinse (410–742), Karolingiese (742–877), post-Karolingiese (877–1088), vroegskolastiese (1088–1225), hoogskolastiese (1225–1349) en postskolastiese (1349–1464) periodes, sien Beukes (2020a:I:12–14). Vir ’n uitgebreide verantwoording van die aanmerking van die postskolastiese periode as sodanig, sien Beukes (2021a:1–11). Ingevolge hierdie datering en interne periodisering sou die eerste drie periodes (dus 410–1088) ook as die vroeë Middeleeue, die twee skolastiese periodes (dus 1088–1349) ook as die sentrale Middeleeue, en die laaste periode (1349–1464) ook as die latere Middeleeue bekend kon staan. Vroulike mistici na 1349 val dus buite die skopus van die sentrale Middeleeue en is daarom oorwegend nie hier in berekening gebring nie. Dit geld onder meer vir Katharina van Siena (1347–1380; vgl. Beukes 2021b:3–4), Tullia van Aragona (ca. 1510–1556) en Moderate Fonte (1555–1592). Hoewel die eerste noemenswaardige vroulike denker vanuit die Middeleeue, Héloïse d'Argenteuil (ca. 1100–1164; vgl. Beukes 2019b:1–12), binne hierdie tydsraamwerk val, was sy nie ’n mistikus nie.

2 Hoewel in hierdie artikel (soos in my werk elders) gepoog word om geslagtelik so neutraal as moontlik na God te verwys (byvoorbeeld eerder “God deur Godself” as “God deur Homself”), is dit binne die konteks van sowel wesensmistiek as liefdesmistiek nie altyd moontlik om anders as “manlik” na God te verwys nie, aangesien God in beide trajekte as “hoogste Man” ervaar en verinwendig word. In ooreenstemming met die gangbare verwysingskonvensies in Middeleeuse navorsing word vroulike denkers na die aanvanklike aanbod van voornaam, pleknaam (of “van”) en geboorte- en sterfdatum, slegs per voornaam aangedui. Tensy anders aangedui, is alle vertalings na Afrikaans my eie.

3 Vir ’n oorsig oor die opkoms en ondergang van die begynse ordes (ook soms ongenuanseerd bedelordes genoem), sien Beukes 2020b:202). In kort kom dit daarop neer dat die begyne godsdienstige groepe in die Middeleeue was wat hulleself streng geslagtelik en grotendeels in terme van die gevestigde kloosterstrukture georganiseer het, sonder dat enige lid van die betrokke orde bindende geloftes moes aflê ten opsigte van ’n lewe in selibaat en om gestroop te word van bestaande of toekomstige individuele eiendom (wat juis die bron van inkomste van die meerderheid van kerklik-gesanksioneerde ordes was). Begyne was vry om te kom en te gaan, maar moes lojaal teenoor die betrokke orde bly. Hulle was dus ook vry om die orde permanent sonder enige strafsanksie te verlaat, maar kon nie na die spesifieke orde terugkeer wanneer dit eenmaal verlaat is nie. Tegnies het die begyne dus nie gebedel nie, maar hulle was vir hulle daaglikse onderhoud afhanklik van die barmhartigheid van die betrokke gemeenskap waarin hulle hul bevind het. In ruil het hulle in die gemeenskap versorgingswerk gedoen, wat ingesluit het die versorging van siekes, gestremdes, bejaardes en weeskinders. Trouens, teen die middel van die 13de eeu was die meerderheid verpleegsters in Duitsland en Frankryk begyne. Begyne was egter sosiaal blootgestel. Juis omdat hierdie ordes nie onder die toesig van die plaaslike klooster en provinsiale biskop gefunksioneer het nie, kon hulle nie op die soort beskerming aanspraak maak wat geordende nonne en monnike binne die kloosters en abdye geniet het nie. Hulle kenmerkende vrygeestigheid het hulle juis ook oopgestel vir voortdurende aanklagte van dwaalleer (veral ten opsigte van wat beskou is as ’n antroposentriese teologie en ’n humanistiese mensbeskouing), seksuele immoraliteit (wat sporadies plaasgevind het binne selfdegeslagkonteks, maar binne die begynse ordes allermins algemeen was) en openbare bedelary (wat wel voorgekom het, maar slegs wanneer die plaaslike gemeenskap die betrokke groep begyne versaak het). In 1311, ’n jaar na Marguerite se teregstelling, is die begynse beweging by die Konsilie van Vienne onder leiding van pous Clemens V (pous van 1305 tot 1314) finaal veroordeel, en die ordes is daarna formeel verban. Marguerite se veroordeling en dramatiese teregstelling het in hierdie institusionele verbanning van die begyne ongetwyfeld ’n rol gespeel.

4 Hoewel by verre die uitsondering, was daar wel manlike eksponente in beide trajekte: in wesensmistiek byvoorbeeld Meister Eckhart (ca. 1260–1328) en in liefdesmistiek byvoorbeeld Bernardus van Clairvaux (1090–1153); sien Beukes (2020a:I:399–408; 2020a:II:909–19). Die “geboorte” of “generering” van God “in die menslike siel” is een van Eckhart se mees kenmerkende leerstellinge. Die filosofiese ideaal van die mens se vergoddeliking berus op Eckhart se interpretasie van ’n Christelike transponering met verwysing na die inkarnasie van die vleesgeworde Woord: die mens kan “Goddelik” word, soos wat God mens geword het. Die proses van die reiniging van die siel, “losmaak van die wêreld” en die vereniging met die Een kan inderdaad as “mistiek” verstaan word, maar dan soos wat Eckhart daarop aandring, in die uitdruklik Pseudo-Dionisiese sin van ’n apofatiese, andertalige en “stilwordende” teologie. Anders as die vroulike denkers in beide trajekte bied Eckhart nie ’n mistieke verslag van ’n individuele ervaring aan nie, maar ’n rasionele ondersoek na die voorwaardes vir die mens se eenwording met God. Die filosofiese basis van Eckhart se aanbod vestig in sy ontleding van een van die algemene volmaakthede wat hy aan die transendenteles koppel, naamlik geregtigheid. Die verhouding tussen abstrakte geregtigheid en ’n konkrete sin vir die reg (in die mens), sny na die wese van sy denke (1936:II:392): “Wie ook al die leer oor geregtigheid en ’n sin vir die reg verstaan, verstaan alles wat ek probeer sê.” In die terugkeer na God moet die mens sigself losmaak van alles wat skeppingsmatig en partikulier is – die mens moet deur daardie losmaking self reg word. Die proses van losmaking is die voorwaarde vir ’n volgende verhouding tussen die abstrakte en die konkrete, naamlik tussen die Vader en die Seun: “Die Vader aanvaar sy Seun as die een wat reg is, omdat die Seun die reg verstaan” (1936:II:392). Geregtigheid en ’n sin vir die reg, in soverre dit reg is, is volledig een; die enigste verskil is dat geregtigheid “voortbring” en dit wat reg is, “gebore word” (1936:II:392). Die verhouding van die abstrakte tot die konkrete is Eckhart se model van die geboorte van God in die siel, wat vir Eckhart die mees volledige uitdrukking van die mens se vereniging met God is. Die vroulike denkers sou ander weë vind om met God te verenig, waaronder hulle fokus op die verbrokkeling van die vroulike liggaam en sakramentele herstel daarvan in die sielsmatige (wesensmisties) of erotiekmatige (liefdesmisties).

5 Gegewe die lengte van verwysings na die Corpus Dionysiacum word dit per eindnota en nie in die hoofteks self nie, aangedui – sien dus Pseudo-Dionisius (1990: De Divinis nominibus I4, 593A). Dionisius hou hom streng by sy Neoplatoniese bronne: God is die Een, wat die eerste beginsel van die werklikheid is, anderkant syn en kennis, met die gelyklopende leerstelling dat “om te wees, is om verstaanbaar te wees”. Dit bevestig dat wat ook al is, bedinkbaar is, verstaanbaar vir die verstand. Dit sou onmoontlik wees om ’n syn te postuleer wat nie bedink kan word nie, aangesien so ’n postulering reeds neerkom op ’n bedenking van die syn. Verstaanbaarheid, dit wat deur die verstand begryp kan word, is in hierdie sin die wesenlike betekenis van syn. Syn is daarom in Neoplatoniese sin duidelik en tegelyk begrensd; alleen ’n definitiewe en begrensde “dit” kan deur die verstand begryp word. Enige syn bestaan daarom in die gedetermineerde totaliteit van die eienskappe of kenmerke van daardie syn, waarom dit is wat dit is, en juis daarom verstaanbaar is. Wanneer Dionisius God as huperousios postuleer, beteken dit nie dat slegs in terme van negatiewe predikate oor God gepraat kan word nie; met ander woorde, dat slegs negatief gepostuleer kan word dat God “nie is nie” of dat God “onkenbaar is” – omrede die negatiefstelling of negasie stééds ’n denkhandelende aktiwiteit is en as sodanig God steeds, hoewel in die negatief, konseptualiseer. In daardie sin is daar geen korrektiewe verskil tussen God “is” en God “is nie” nie – om God se bestaan of enige wesenseienskap van God te negeer, beteken om God steeds as ’n gekonseptualiseerde objek te hanteer; hetsy enersyds in besit van of andersyds ontdaan van bepaalde wesenseienskappe. Die stelling “God is onkenbaar” beteken effektief om God te identifiseer as ’n onkenbare wese – en maak dus wel aanspraak op kennis van God, hoe minimaal ook al. Daarom stel Dionisius dit dat God “anderkant elke negasie en affirmasie” is (Pseudo-Dionisius 1990: De mystica theologia I.2,1000B; V,1048B; my kursivering). God is nie bloot onverwoordbaar en onkenbaar nie, maar is anderkant onverwoordbaarheid en onkenbaarheid. Die vraag ontstaan of daar vanuit hierdie Neoplatoniese gerigtheid hoegenaamd oor God gedink en gepraat kan word, anders as deur terug te trek in stilwording. Dionisius se antwoord is dat ons wel oor God kan praat, in die sin dat ons God kan benoem of kan ken vanuit die geskape dinge (dit is alle syn), as juis die oorsaak van daardie dinge of syn (Pseudo-Dionisius 1990: De Divinis nominibus I.5, 593 AB; I.5, 593 D; I.6, 596 A; De coelesti hierarchia IV.1, 177 D). Op die oog af beteken die aanduiding “oorsaak” wel weer ’n identifisering van God as syn, dan natuurlik begrensd en verstaanbaar. Dionisius gebruik die begrip oorsaak egter bepaald Neoplatonies: Aangesien “is” of “om te wees” beteken om determineerbaar te wees, is enige wese of syn vir die bestaan daarvan afhanklik van die gedetermineerdheid daarvan, sodat juis die gedetermineerdheid daarvan die oorsaak van die syn kan wees. God is die Skepper van alle dinge, as die konstituerende determineerder van alle dinge, wat elke ding determineer om te wees deur dit te maak “wat dit is”. God is sodoende die “Synheid van alle Syndes, sonder dat God self Syn is” (Pseudo-Dionisius 1990: De Divinis Nominibus V.4, 817 C, 817 D).

6 Pseudo-Dionisius (1990: De Divinis Nominibus I.3, 589AB); vgl. Rorem (1993:3–38).

7 Pseudo-Dionisius (1990: De Divinis Nominibus I.4, 593C; I.4, 592CD); vgl. Rorem (1993:3–38) en Sheldon-Williams (1967:457–72).

8 Pseudo-Dionisius (1990: De Mystica Theologia I.3, 10001 A; III.1, 1033C); vgl. Rorem (1993:7).

9 Van hierdie eerbiediging van die apofaties-andertalige is Hildegard se “Hildegardismes” ’n goeie voorbeeld (Beukes 2019a:88).

10 Hierdie hoogskolastiese interpretasie van mistiek as “afwykend” en “roekeloos-Dionisies” word selfs nog in die latere Middeleeue duidelik geïllustreer in die pogings van die veglustige kanselier van die Universiteit van Parys, Johannes Gersonius (1363–1429) om Die geestelike brulocht van die eerste outentieke eksponent van ’n Nederlandse mistiek, Jan van Ruusbroec (1293–1381), as kettery verklaar te kry (sien Beukes 2020f:7–11). Gersonius het uiteindelik nie daarin geslaag nie, maar het nietemin ’n stempel geplaas op sommige hoogskolastici se resepsie van die Dionisiese spoor in die sentrale en latere Middeleeue as ondermynend en ketters.

11 By Pseudo-Dionisius se apofatiese teologie sou ook die opvolgende invloed van Johannes Skotus Eriugena (815–877) se provokatiewe en uiteindelik veroordeelde teologie vermeld kon word. Eriugena was die eerste Latynse vertaler van Dionisius se volledige oeuvre uit Grieks. Sy Periphyseon, ’n werk wat in 1210 finaal veroordeel en op die verbode indeks geplaas is op grond van wat beskou is as die ondermynende panteïsme daarin (sien Beukes 2021c:1–3), bestaan uit vyf volumes, hoewel Eriugena aanvanklik net vier volumes beplan het, wat hy wou laat ooreenstem met sy vier verdelings van die natuur wat die dieptestruktuur van die werk ondervang: die verdeling van syn en niesyn, die verdeling van Ongeskapenheid en Skepper, die verdeling van oorsaaklikheid en verskeidenheid, en laastens die verdeling van menslike liggaam-siel. Hoewel toegang tot die verbode teks uiteraard beperk was, figureer aspekte daarvan wel ooglopend in die mistieke trajekte van die sentrale Middeleeue, uitdruklik by Marguerite.

12 Die mikrokosmiese tema by Maximus vind weerklank deur die vroulike mistiek in die sentrale Middeleeue, eksplisiet by Hildegard (Beukes 2019a:67; 87–8), Beatrijs (Van Put 2016:144–50) en Herrada Landsbergensis (ca. 1130–1191; Beukes 2021d:6).

13 Richard van St Viktor was ’n Skot wat die klooster van Hugo (Beukes 2020h:265–70) te Saint-Viktor buite Parys in die middel-1140’s betree het, na Hugo se afsterwe in 1141. Hy het rondom 1158 onderhoof van die klooster geword en in 1162 hoofmonnik. Hy was Hugo se nougesette intellektuele opvolger, tot so ’n mate dat sy gangbare monnikenaam, St Victoris, aan die klooster ontleen is. In die Middeleeuse navorsing staan Hugo van Saint-Viktor normaalweg net as Hugo bekend, en Richard van Saint-Viktor bloot as St Victoris oftewel St Viktor.

14 Vir ’n oorsig van die ontwikkeling en inhoud van Anselmus se ontologiese Godsbewys, sien Beukes (2020a:I:293–5).

15 Hales is in Shropshire vanuit ’n vooraanstaande Engelse familie gebore. Sy aanvanklike studies by die Universiteit van Parys was in lettere, met spesialisering in filosofie, waarvan hy teen 1210 ’n magister was. Soos feitlik elke ander grootse denker in die skolastiese periodes het hy vanaf lettere dadelik na teologie beweeg om ook daar (teen 1220) tot magister te vorder. Hales het sy leerstoel ruim voor sy dood ontruim en aanbeveel dat Johannes van Rochelle (Beukes 2020a:I:599–604) hom sou opvolg. Met daardie vrywillige ontruiming en duidelike aanwysing vir ’n opvolger is die gebruik in Parys gevestig (wat vir eeue daarna nog gehandhaaf is) dat ’n Franciskaan die betrokke leerstoel sou vul. Sy bynaam, Doctor Irrefragabilis (“die onweerlegbare doktor”) het hy van pous Alexander IV (pous vanaf 1245 tot 1261) in die pouslike bul De fontibus paradisi ontvang, op grond van die oënskynlik onweerlegbare argumente in sy Summa theologica. Hales was in Parys gebonde aan die dekreet wat private en openbare studies en lesings van Aristoteles in Parys verbied het. Ten einde aan die verbod op Aristoteliese lesings in Parys te voldoen, het hy by sy vroegskolastiese voorgangers aansluiting gevind. Hales gebruik byvoorbeeld Richard van St Viktor se bewys van kontingensie en Hugo van St Viktor se argument dat die kennis van die siel behels dat die siel onbemiddeld verstaan dat dit ’n begin gehad het, terwyl hy by Augustinus (354–430) en nogeens Anselmus se ontologiese bewyse vir die ewigheid van waarheid (God) aansluiting vind. Hales verwys ook breedvoerig na Pseudo-Dionisius ten einde nie beskuldig te kan word dat hy by die primêre tekste van Aristoteles vertoef het of hoofsaaklik daarby aansluiting gevind het nie (hoewel daar wel verwysings, waarvan die meerderheid krities en uiteraard afwysend, na Aristoteles in al Hales se werke te vinde is). Voorts was Hales die eerste Middeleeuse denker wat Petrus Lombardus (1095–1160) se Sententiae in quatuor IV libris distinctae as die primêre teks vir onderrig by die teologiese fakulteit in Parys voorgeskryf het. Dit was ’n gevolgryke besluit wat die inhoud van die teologiese kurrikulum by die meeste Europese universiteite vir nog die volgende twee eeue grondig bepaal het. Hales se langslewende bydrae is egter dat hy die eerste vertolker was van die soort inkarnasieteologie wat veral die Franciskaanse tradisie in die sentrale en latere Middeleeue gekenmerk het.

16 Sawdy (1995:3–4) verwys onder andere na die toenemende godsdienstige en kulturele gewildheid van relieke (brokstukke van ’n groter geheelobjek) en die toename in stigmata-ervarings in die 12de en 13de eeue, waar ’n psigosomatiese reaksie op slegs een deel van die liggaam manifesteer. Hiervan is die stigmata-ervaring van die ietwat latere Dominikaanse non Katharina van Siena (1347–1380) steeds ’n goeie voorbeeld (Beukes 2021b:3). Op 1 April 1375 het Katharina se hande volgens betroubare getuies voor, in die middel en van agter begin bloei terwyl sy in die kerkgebou van Santa Christina gebid het. Die ontvangs van die stigmata het Katharina se invloed en profiel in die kerk en gemeenskap in Italië in die tweede helfte van die 14de eeu onmiddellik verhoog (vgl. Muessig 2012:5).

17 Die prioritisering van die partikuliere sou eers weer grondig in Nietzscheaanse, postfenomenologiese en poststrukturalistiese trajekte in die 20ste eeu botvier, onder meer in die ideehistoriese ontledings van Michel Foucault (Beukes 2020i:3–5) en die negatiewe dialektiek van Theodor Adorno (Adorno 1980:55), saamgevat in Adorno se identiteitskritiese en inderdaad teenmoderne stelling: “Das Ganze ist das Unwahre.”

18 Verwysend na die sentraal-Middeleeuse strafpraktyk (in onder andere Engeland vanaf 1283 opgelê vir halsmisdade, in besonder hoogverraad), waar die terdoodveroordeelde se liggaam brutaal in vier verdeel is nadat sekere dele van die liggaam (veral borste en genitalieë) afgesny of uitgehaal is (by uitstek ingewande), met die veroordeelde nog by sy of haar bewussyn en gedwing is om ’n laaste keer na die eie liggaamsfragment te kyk, waarna die arms en bene van die veroordeelde aan vier perde vasgemaak is wat op ’n gegewe oomblik in verskillende rigtings gejaag is om die liggaam letterlik in vier te skeur.

19 Vir ’n verantwoording van die gebruik van hierdie latinistiese term in Afrikaans, asook ’n uiteensetting van die betekenis daarvan, sien Beukes (2019a:98–9, eindnota 9).

20 Trouens, Higley (2007:161–88) lys 1 012 sodanige (bykans andertalige) neologismes van Hildegard wat nie Duits of Latyn is nie, maar inderdaad ’n soort “binnetaal” vir slegs ingewydes – wat Higley Hildegard se “unknown language” noem. Ek het egter reeds ’n motivering aangebied waarom dit eenvoudiger is om bloot van “Hildegardismes” te praat (Beukes 2019a:100–1, eindnota 16). Hildegard se hiperspesifisering van selfs ’n enkele liggaamsdeel (byvoorbeeld van die penis as creueniz, van die ontblote kop van die penis as lizia, en van die skag van die penis as amzglizia) is ’n duidelike voorbeeld van liggaamsfragmentering in die 12de eeu wat ook vir die manlike liggaam gegeld het.

21 Die toename in intervroulike seksualiteit en langtermyn- intieme verbintenisse tussen vroue in die 12de en 13de eeue kan as deel van hierdie verset aangemerk word (vgl. Beukes 2020e:3–8).

22 Dit geld naas Ibn Sina ook vir Alkindi (d. ca. AH [Anno Hegirae] 256 / ca. 801 – ca. 870), Alrazi (d. ca. AH313 / ca. 865 – ca. 925) en Isak Israeli (ca. 855 – ca. 955, ’n Joodse denker wat in Arabies geskryf het); sien Beukes (2018b:514–38).

23 Hoewel die opvatting van manlike ejakulaat as die “suiwerste liggaamlike substansie” natuurlik vanuit ’n bepaalde kultuur-ideologiese hoek vertrek neem, is Ibn Sina se herleiding van die produksie van manlike ejakulaat na die lewer (terwyl die rol van die prostaat en testikels algeheel verbygegaan word) nie onlogies nie, gegewe sy empiriese waarnemings rondom die korrelasie tussen manlike libido en gesonde lewerfunksies, onder meer daarin waargeneem dat alkoholvergiftiging of blote dronkenskap ereksievermoë en kwantitatiewe ejakulaat drasties beïnvloed, asook die afname in manlike libido by die veroudering van die liggaam en juis (wat veronderstel is) die entropiese afname in die liggaam se interne suiweringsvermoë (sien daarby Jacquart en Thomasset 1985:60).

24 Die naaste wat Ibn Sina daaraan sou kom om ’n rol aan die uitwendige vroulike geslagsdele ter bereiking van vroulike orgasme toe te ken, is te vind in Volume 3 van Liber canonis waar hy die opwekkingsfunksies van die klitoris ondersoek (met verwysing na swelling en verhoogde bloedvloei), wat egter dadelik onderspeel word deur verwysing na die klitoris as ’n “pseudopenis” (in Latyn vertaal as virgam en soms tentiginem, van die Griekse [Aristoteliese] klytorida, waaraan die obsene werkwoord klytoridein, “om wellustig aan te raak”, ontleen is). Ibn Sina se tydgenoot Al-Zahrawi (936–1013; gelatiniseerd Albucasis), waarskynlik die eerste anorektale spesialis in Arabiese geneeskunde, het die libidinale opwekkingsfunksie van die klitoris anatomies egter deegliker verken (met die opmerking dat die betrokke liggaamsdeel “wel deur anatomiste verwaarloos word”), maar tog wel ook tot die reduksionistiese slotsom gekom dat “hierdie vreemde anatomiese partikel” as funksioneel in intervroulike seksuele kontekste geag kan word slegs deurdat dit ’n “vreemde vorm van penetrasie” en tribadisme tussen vroue bemoontlik (Borris 2004:113). Hierdie anatomiese reduksionisme is ten minste tot nog in die 17de eeu gehandhaaf, soos sigbaar nog in Bartholin se beroemde anatomiese handboek (Borris 2004:113).

25 Die subtiele verskille tussen manlike en vroulike heupbene was teen die 11de eeu reeds merkwaardig goed in Arabiese geneeskunde gedokumenteer (Borris 2004:112).

26 Die kerklik-tegniese definisie van “natuurlike” of “rasionele” geslagsgemeenskap (die kloosterhervormer Petrus Damianus [1007–1072] se unieke begrip; sien Beukes 2019d:3–4) was teen die helfte van die 11de eeu rigied geformuleer (vgl. Foucault 1978:18,58): Natuurlike of rasionele geslagsgemeenskap kon slegs tussen ’n volwasse man en ’n volwasse vrou plaasvind; slegs binne die eg; slegs met die oog op die opsetlike verwekking van ’n vrug; met geen ejakulasie buite die vagina (oftewel onanisme; sien Foucault 1968:30) nie, op grond van hierdie uitdruklike oogmerk tot voortplanting; met geen gesig- of oogkontak nie (vaginale toegang dus slegs van agter of met die vrou se gesig volledig buite sig, verdonkerd of versluierd); met slegs genitaal-genitale en geen oraal-genitale of genitaal-anale kontak nie. Daarby is masturbasie, manlik en vroulik, wedersyds of solitêr, reeds vanaf die 10de eeu as ’n ernstige sonde gereken en moes dit in ’n buitengewone bieg, naas die verpligte jaarlikse biegaflegging, hanteer word (Foucault 1978:28, 42). Rigied soos hierdie kerklike voorskrifte was, is dit in sowel heteroseksuele as selfdegeslagkontekste nie juis plegtig nagekom nie. Vanaf die vroeë 12de eeu is dit trouens effektief geïgnoreer (vgl. Beukes 2020e:4–9).

27 Indien masturbasie wel plaasgevind het tydens hierdie mistieke belewenisse, word dit op geen plek in die tersaaklike tekste aldus vermeld nie: “Wanneer hierdie gedrewe sielsgerigtheid ’n somatiese reaksie ontlok, het dit in ’n oorgawe uitgemond wat so intens was dat niks verder begeer of gedoen kon word nie” (Baldwin 1994:129; vgl. Sauer 2103:131–2).

28 Vir ’n uiteensetting van die verskille tussen die 11de en 12de eeue ten opsigte van progressiewe kulturele verdraagsaamheid in die 12de eeu, sien Beukes (2020e:3–6); vir ’n verduideliking van die verskil tussen simplekse (enkelterm-) en komplekse (meervoudige–terme-) taboes, en die verskil tussen die transgressiewe en transenderende oorstyging van sodanige simplekse en komplekse taboes, sien Beukes (2020e:5–6). Die subjektiwiteitsverstaan van die gefragmenteerde liggaam in sentraal-Middeleeuse vroulike mistiek dui duidelik op ’n komplekse of meervoudige taboe wat transenderend oorstyg is – dit wil sê, op ’n sistematiese teengaan van die taboe (in hierdie geval “openbare vroulike orgasme”) wat nietemin diskreet en onderbeklemtoond plaasgevind het.

29 Hadewijch van Antwerpen was ’n Vlaamse begyn uit die 13de eeu. In haar oorleefde, geredigeerde en vertaalde korpus (Hadewijch 1980) word min biografiese inligting oorgedra, maar ten minste blyk die volgende gegewens daaruit duidelik: By haar moeder het sy die basiese grondslae van Latynse grammatika en die inhoud van die Latynse Psalms geleer. Na ’n jaar se opvoeding by ’n skool wat in die inleiding tot die liberale lettere gespesialiseer het, kon sy ’n kloosterskool (waarskynlik by die Cistersensiërs se abdy van Florival in België) betree, waar sy sistematies in die sewe liberale lettere (die trivium [grammatika, retoriek en logika] en die quadrivium [wiskunde, meetkunde, astronomie en musiek]) onderrig is. In haar gedigte verwys sy gereeld na hierdie kurrikulum en die magistri wat haar opgevoed het. ’n Grondige vertroudheid met Latyn, die stelreëls van logika, algebra, musiekteorie, verstegniek, korrespondensietegniek (ars dictaminis, aangesien handgeskrewe briewe die enigste vorm van nienabye kommunikasie was) en vlot bedrewenheid in Vlaams, Nederlands en Frans stempel ’n kwaliteit- akademiese opvoeding wat betreklik min jong vroue in die 13de eeu, selfs vanuit die hoër adel, beskore was.

30 Tematies nou verbonde aan Hadewijch se liefdesmistieke Pinkstervisioen, kan ook verwys word na “intense begeerte” en ’n “smeltende fragmentering van die liggaam” in ’n ekstatiese visioen van die latere Duitse kluisenaarsnon, Dorothea von Montau (1347–1394; Marienwerder 1997:184; vgl. Sauer 2013:142[e.n.44]; my kursivering): “Haar siel, haar vlees, haar gebeente het gesmelt vanuit die intense begeerte wat vanaf haar siel na elke deel van haar liggaam en elke been in haar liggaam oorgespoel het.”

31 Beatrijs van Nazareth was ’n Cistersensiër-non en abdis van die klooster in Nazareth naby Lier in Brabant in die 13de eeu (sien Van Put 2016:143–50; Arblaster en Faesen 2012:297–323; 2013:41–88).

32 Gegewe die uitdagings daaraan verbonde om Hildegard se komplekse formulerings in Latyn semanties verantwoordelik te vertaal, word die Latynse teks hierby verskaf: “Luxuria [...] quasi formam mulieris habebat, et supra dextrum latus suum jacebat, ac crura dus incurvando ad se contraxerat, velut homo qui in lecto suo otiose discumbit. Crines autem ejus ut flammae ignus fuerunt, et oculi ejus albi [...] et alba calceamenta in pedibus habebat, quae tam lubrica erant, quod nec incedere, nec stare per illa poterat. Et ex ore suo quemdam anhelitum et quamdam venenosam spuman emisit, ac dextro ubere quasi catulum canis lactabat, sinistro autem velut viperam, et manibus flores arborum et herbarum decerpsit, ac odorem illorum naribus cepit. Ipsa quoque alai indumenta non habuit, sed tota ignea fuit, et ardore suo omnia sibi adjacentia sicut fenum arefecit” (Hildegard 1995:VMIII21). Die dubbele ommekeer van die kleur wit en die louterende effek van vuur, asook die beelde van vlammende hare en skaamhare, giftige spoeg, gediertes wat aan haar soog, die dekadensie van ’n soet reuk en die figuur se gloeiende liggaam werk alles mee tot ’n dialektiese aanbod tussen seksuele prikkeling en prikkelbaarheid en gelyktydig daarmee die algehele dekadensie wat dit vergesel. Castitas is daarom juis ’n deug wat met proaktiewe waaksaamheid geassosieer moet word: Juis vanweë die aanloklike dog uiteindelik vernietigende elemente in luxuria moet dit as ’n slinks-inversiewe, giftige perversie begryp word wat slegs vanuit ’n bewustelike en juis vooraf keuse daarteen ondermyn kan word. Die alternatief is om self ’n hond of slang te word wat teen haar borste nestel – en by die aanraak van haar hare en skaamhare te verbrand en by die soen van haar mond tot die dood vergiftig te word. Dit is juis die alternatief – verbranding, vergiftiging en die ewige dood – wat Hildegard se etiek en erotiek binne die groter konteks van skuldbelydenis plaas.

Vertalingsnota: crines (nominatief meervoud van crinis, ml. ekv. 3) is as “hare en skaamhare” vertaal, aangesien die meervoud, die posisie van die figuur en die seksuele aanwysings binne die visioen so ’n vertaling aanmoedig; flores arborum et herbarum is ter wille van leesbaarheid nie as “blomme van bome en kruie/gras” vertaal nie, maar slegs as “blomme”.

33 In die latere Causae et Curae (Hildegard 1903) word die erotiese kwaliteit van Hildegard se mistiek verruim. Hoewel enkeldele van die liggaam nie hier beklemtoon word nie, is daar wel ’n aksentplasing op die ervaring van die sintuie binne ’n eroties-mistieke konteks. So stel Hildegard (1903:70,76) die volgende twee passasies aanvanklik saaklik in die Latynse vernakulêr en daarna hoogs eksplisiet deur middel van Hildegardismes: “Daar is mans met besondere viriliteit, terwyl hulle ook slim is [...] hulle gelaatskleur is rooierig, asof hulle bloos, net soos in sommige skilderye, waar mans in ’n rooi, koorserige waas gehul is [...] daar is ’n wind wat deur hierdie soort man se lendene waai, hoewel meer vuurwind as suiwer wind, en hierdie vuurwind het twee tabernakels, waarin dit blaas soos deur ’n skoorsteen. Hierdie twee tabernakels is weerskante van die stam, wat al die krag van die man omsluit, net soos twee waghuise langs ’n wagtoring. Wanneer die twee tabernakels die stam omsluit, versterk hulle die stam en rig dit op, sodat dit dapper en korrek gelyn is – en dan ontvang die tabernakels daardie vuurwind, trek dit na binne en stoot dit weer uit, soos twee blaasbalke ’n vuur stook. Wanneer die twee tabernakels die skag opgewek het in die volkome manlikheid daarvan, trek dit die stam braaf na binne en hou dit daar; dalk later kan daardie stam tot ’n vrug bloei” (“Quidam autem masculi sunt, qui viriles exsistunt, et hi cerebrum forte et spissum habent [...] Et color faciei eorum aliquantum rubicundus velut in quibusdam imaginibus videtur, qui robeo colore colorantur [...] Ventus quoque, qui im lumbis eorum est, magis igneus quam ventosus est; qui duo tabernacula sibi subdita habet, in quae flat ut in follem. Et haec tabernacula stirpem omnium virium hominis circumdant et ei in adiutorium sunt, ut aliqua parva aedificia iuxta turrim posita, quae illum defendunt, ac ideo duo sunt, ut tant fortius praedictam strirpem circumdent et solident ac teneant, et ut tanto fortius et aptius praefatum ventum excipiant et ad se trhant, et ut aequaliter eum emittant, velut duo folles, qui aequaliter flant in ignem. Unde etiam cum eandem stirpem in virtute sua erigunt, eam fortiter tenent, et ita eadem stirps frondet in prolem”; Hildegard 1903:70). Dieselfde soort beskrywings van ’n mistieke refleksie oor vroulike seksualiteit word in verskeie ander passasies aangetref, byvoorbeeld: “Plesier in ’n vrou kan voorts vergelyk word met die son wat sorgsaam, sag en aanhoudend die aarde met die hitte daarvan vul, sodat die aarde kan vrugte dra – maar nie met meer hitte in die konstantheid daarvan as wat nodig is nie, aangesien dit dan die vrugte eerder sal vernietig as produseer. Net so is plesier in ’n vrou iets wat sorgsaam en sag en weliswaar aanhoudend moet wees, sonder om haar seer te maak, sodat sy genoeg hitte het om vrugte te verwek en voort te bring [...] wanneer plesier in ’n vrou opstoot, is dit ligter in haar as in ’n man” (“Delectatio autem in muliere soli comparatur, quie blande et leniter et assidue terram claore suo perfundit, ut fructus proferat, quia si eam acrius in assiduitate incenderet, fructus magis laederet quam eos produceret. Ita eiam et delectatio in muliere blande et leniter sed tamen assidue colorem habet, ut prolem concipiat et pariat [...] cum enim delectatio in muliere surgit, levior in ea est quam in viro”; Hildegard 1903:76).

34 Verwysings na Das fließende Licht der Gottheit (Mechthild 1980) word per volume, hoofstuk en bladsynommer aangedui.

35 Die verwysings na Liber celestis revelaconium geskied per jaar van die Morris-redigering (Birgitta 2006, 2008), gevolg deur die volumenommer, hoofstuknommer en bladsyverwysing: “Ille talis videtur hominibus quasi homo bene ornatus, fortis et decorus et in pugna domini sui strenuus sed, amota galea a capite eius, est abhominabilis as videndum et inutilis ad operandum. Apparet enim cerebrum eius nudum. Aures habet in fronte, oculos in occipite. Nasus eius absiscus est. Gene eius ex toto contracte quasi hominis mortui. Maxilla eius ex dextera parte cum faucibus et dimidietate labii toto deciderat, it quod nichil ex edextera parte remanent nisi guttur solum, quod nudum apparet. Pectus eius plenum est vermibus scaturientibus, brachia eius quasi duo serpentes. Cor impletum est pessimo scorpione, dorsum eius velut combustus carbo. Intestina eius sunt fetencia et corrupta quasi caro habundans sanie, pedes eius mortui et inutiles ad incedendum.” (My semantiese vertaling in die hoofteks; Birgitta 2006:I:23:89–91.)

36 Vergelyk Liber celestis revelaconium IV (Birgitta 2008): 27:3, “Oor die reg van troonopvolging in ’n land”; 34:5, “Petrus se klaaglied oor Rome”; 44:10, “Rome se verval”; 54:16, “Vergrype in Rome”; 78:33, “Die klaaglike toestand van Rome en haar ampsdraers”; 95:48, “’n Koning moet God bo alles eer of sy koninkryk sal verdeel word”, 95:49, “Vanaf twee kansels klink die aandrang by die pous om die kerk te hervorm”; 184:104, “Die konings van Engeland en Frankryk is soos twee roofdiere”; 186:105, “’n Voorstel vir vrede tussen Engeland en Frankryk”; en 195:111, “Kerkreg, keiserlike reg en gemene reg”.

37 Nederlands, Vlaams en Afrikaans het grammatikaal heelwat met Middelengels gemeen. Vir hierdie taalgebruikers behoort Middelengels daarom nie ontoeganklik te wees nie en kan met die onvertaalde en verwysde aanhaling uit die Middelengelse teks van Showings (Juliana van Norwich 1978) volstaan word.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Liggaamsfragmentering in sentraal-Middeleeuse vroulike mistiek appeared first on LitNet.

Dekolonialiserende kunsaktivisme op die interseksie van die stryd teen wit bevoorregting en gendermarginalisering

$
0
0

Dekolonialiserende kunsaktivisme op die interseksie van die stryd teen wit bevoorregting en gendermarginalisering

Matthias Pauwels, Skool vir Filosofie, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)

LitNet Akademies Jaargang 18(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Hierdie artikel gaan oor die kultuurpolitiek eie aan onlangse, dekolonialiserende studenteprotesbewegings in Suid-Afrika en stel die volgende vrae: Hoe kan wit kunstenaars wat krities staan teenoor “witheid” ’n bydrae lewer tot die swartbevrydingspolitiek? Wat is die belangrikste kritiek van swart aktiviste teen sulke bydraes en hoe kan ons hierdie soort kritiek verstaan en beoordeel? En watter rol speel genderkwessies in al hierdie ontwikkelinge? Spesifiek besin die artikel oor die omstrede kunswerk F*** White People (FWP) van Dean Hutton, ’n niegenderkonformerende vertoonkunstenaar, wat gemaak is as deel van die studenteproteste. Die artikel fokus spesifiek op die harde kritiek, afwysing selfs, van hierdie werk deur ’n swart kritikus (Kwanele Sosibo) en dit ontleed en beoordeel van die aangevoerde argumente, implisiete vooronderstellings en praktiese implikasies. Die doel van die artikel is om eendimensionele en ietwat te voorskriftelike lesings in terme van sleutelbegrippe binne die dekolonialiseringsdenke, soos wit bevoorregting, wit skuld en wit trane, te kwalifiseer, kompliseer en bevraagteken. In die betoog word verskeie alternatiewe interpretasies van FWP ontplooi aan die hand van begrippe soos ooridentifikasie, rasseselfmoord, simboliese politiek, interseksionaliteit en die politiek van marginaliteit.

Ek voer onder andere aan dat die openbare, simboliese opvoering van rasseverraad of rasseselfmoord ’n sleutelkomponent van FWP is wat egter verontagsaam en onderwaardeer word in die swartbevrydingsdiskoers as ’n gevolg van die oorbeklemtoning van die materiële moontlikheidsvoorwaardes en effekte van kunswerke. Ek redeneer verder dat van die swart besware teen wit kunstenaars se betrokkenheid by die radikale dekolonialiseringspolitiek daartoe lei dat wit kunstenaars in ’n amper onmoontlike posisie geplaas word, met teenstrydige en onversoenbare eise wat aan hulle gestel word. Die belangrikste punt in my betoog is dat FWP ook beskou moet word as deel van ’n interne stryd binne die huidige dekoloniseringsbewegings oor die belangrikheid van gendermarginalisering in verhouding tot kwessies van rassebevoorregting en kolonialisme. Die artikel ontwikkel ’n meer komplekse en genuanseerde manier om die verstrengeling van verskillende vorme van marginalisering op die vlak van ras, gender en klas in ag te neem by die beoordeling van interseksionele kunswerke soos FWP. So ’n multidimensionele benadering word noodsaaklik geag vir ’n meer positiewe beoordeling van bondgenootskappe tussen kunstenaars en/of aktiviste van verskillende rasagtergronde in die stryd om dekolonialisering en die aanvaarding van genderverskeidenheid.

Trefwoorde: aktivisme; dekolonialisering; gender; hedendaagse kuns; interseksionaliteit; LGBTQIA; ras; studenteproteste; Suid-Afrika; wit bevoorregting

 

Abstract

Decolonial activist art at the intersection of the struggle against white privilege and gender marginalisation

This article addresses issues of cultural and aesthetic politics evoked by artistic-activist interventions as part of the protests by predominantly poor, black students in South Africa in 2015 and 2016. The latter were directed against enduring structural racism and colonialism in the tertiary education sector and were driven by a radical black decolonisation politics. The article mainly reflects on the controversial artwork F*** White People (henceforth abbreviated as FWP) by Dean Hutton, a white, non-gender-conforming performance artist. Briefly put, this installation and performance work from 2016 borrows a slogan of a black student protester – F*** White People – and turns it into a wallpaper pattern that is then used to make a billboard and matching clothes, worn by Hutton, and to upholster a chair. Owing to its provocative thrust the work was harshly criticised not only by white, right-wing groups but also, more surprisingly, from a radical decolonial perspective.

In considering FWP, its critical reception and related conceptual and practical issues, the following general questions are addressed: How can white artists who are critical of whiteness and supportive of on-going decolonisation struggles contribute to the latter? What are the main critiques against such contributions from a black, decolonial perspective, and how should one assess these critiques in terms of their implicit presuppositions and pragmatic implications? How do issues of gender and intersectionality complicate the assessment of white artists’ contributions to the decolonial cause? In addressing these questions, an immanent-critical approach is adopted according to which something is examined and assessed based on its own explicit and implicit stances, assumptions and goals, without passing judgement on the latter’s validity as such. The aim of the article is to qualify, complicate and question one-dimensional and somewhat formulaic readings of FWP in terms of prevalent concepts and arguments within radical decolonisation discourse. It does so by offering various alternative interpretations based on notions such as over-identification, race suicide, symbolic politics, intersectionality and the politics of marginality.

I first argue that over and above the artwork’s straightforward meaning and stated intention, a subtle, ironic effect is created by the way in which the protester’s amateurishly painted slogan is converted into a highly stylised, propagandistic total work of art. Based on the resulting sense of overstatement and overkill, I contend that FWP can also be read as a parody of the politics of “strategic simplification” characteristic of the radical decolonisation movements, which creates an interesting tension with the work’s explicit position and aim.

Turning to the critical reception of FWP, I first note some contradictions and ironies in the way in which right-wing parties such as the Freedom Front Plus and the Cape Party have presented themselves as peace-loving and moderate in contrast to FWP’s aggressive, polarising stance. On the opposite side of decolonial politics I consider a set of criticisms issued by a black cultural critic, Kwanele Sosibo. The latter’s principal objection to FWP is that it constitutes a problematic form of “white allyship” based on the belief that white people can deploy their racial privilege as a tool to rectify and undo such privilege. I specify the “white privilege” in question in terms of the higher symbolic status awarded to white artists as a result of historical and structural processes of colonialism and racism. I take Sosibo’s critique to mean that such privilege makes Hutton’s artivist allyship highly contradictory because their assertive plea for the elimination of white privilege is undermined by the deeper structures and institutional mechanisms of privilege that, to a large degree, empower Hutton to make this call in the first place, and even rewards them for it (e.g. in terms of their career or media attention). In this regard I speak of a performative paradox in which whiteness manifests and furthers itself at the very point at which its eradication is advocated with much bravado. As such, Sosibo dismisses acts of white allyship as a clever “ruse” employed by white people to hold on to their privilege and endlessly delay what he considers to be the only right thing for them to do, namely, to surrender all racial and colonial privileges without further ado.

I then critically assess different presuppositions, implications and gaps of this radical decolonial critique. I first argue that key concepts within the current discourse of decolonisation are at times applied somewhat too formulaically, thereby misrepresenting key tenets of FWP such as its emphasis on action and material compensation (rather than the introspective, psychological processing of white guilt) and self-hatred (rather than white tears). I then contend that what I take to be a key operation of FWP is overlooked, namely, its public enactment of race betrayal or suicide. Redefining Amílcar Cabral’s notions of class betrayal and suicide I define race betrayal as the resolute rejection of the privileges, power and status associated with one’s race through an identification with those that have been oppressed by one’s race. I differentiate such a race suicide from the actual suicide or extinction of a race – as proposed by Terreblanche Delport – and, instead, conceive it as a symbolic act in which a group reckons with problematic aspects linked to its colonialist and racist history. I emphasise the crucial importance of public, performative acts of race suicide to impact on the collective white psyche and intervene in debates on white people’s enduring complicity in colonialism and racism, and ways to overcome the latter. I argue that this aspect of FWP is underappreciated in radical decolonial discourse due to an overemphasis on the material conditions of possibilities of artworks and their real-life effects. I contend that symbolic and material acts cannot be distinguished and valued so simply and are deeply entangled, as evidenced by the key role played by symbolic gestures and cultural politics within the decolonial student protests – especially in the #RhodesMustFall campaign.

The article also considers some possible practical implications for white artists of a radical, decolonial critique of white privilege and allyship. These include the withdrawal from platforms where they might take the place and resources of black artists, or the adoption of a merely facilitating role in the art world geared toward empowering black, underprivileged artists. I show how each option comes with its own difficulties, dilemmas and potential objections from a radical decolonial perspective, which puts white artists who support black liberation in a somewhat impossible position, facing irreconcilable demands.

A final, complicating interpretative move of the article is to assert the importance of FWP’s gender dimension in assessing its allyship with decolonial struggles.

Although Hutton’s queer identity is represented in FWP by the inclusion of their trademark golden boots, it is mostly camouflaged by Hutton’s adoption of a uniform consisting of a typical battle cry of radical decolonial politics, while also being accentuated in a subtle way. Based on such an underplayed, elusive gender expression – which is at variance with Hutton’s other works – I contend that FWP can be understood in line with a series of artivist interventions within the recent decolonisation movements as part of an internal struggle over the prominence of the fight against gender inequality and marginalisation compared to the fight against racial privilege and neo-colonialism. I refer here to a protest action in 2016 by a collective of transgender activists (Trans Collective) and a public art performance in 2015 by Sethembile Msezane entitled Chapangu. I thus read FWP as a form of “gender or queer allyship”, over and above its white allyship, that necessitates a more nuanced way of accounting for the different, intersecting forms of marginalisation regarding race, gender and class simultaneously at play. In developing such a multidimensional approach I draw on Kobena Mercer’s notion of the “politics of marginality” in which the differential distribution of positions of privilege and marginality between an artist and its “subjects” are fully acknowledged and properly weighed. Correspondingly, I argue that although Hutton, as a white person, is undoubtedly privileged in present-day South Africa compared with the majority of black people, such racial privilege is somewhat hampered by Hutton’s marginalised, non-binary gender positioning in a predominantly heteronormative, patriarchal culture shared by all racial communities. Such an intersectional reading is regarded as essential for a more positive assessment of allyships between artists and/or activists from different racial backgrounds in the struggle for decolonisation and gender diversity.

As part of the latter argument I note that although Sosibo acknowledges the importance of FWP’s gender dimension in challenging white, patriarchal heteronormativity and its bodily and beauty ideals, the work’s artivist intervention in the gender politics of radical decolonisation movements goes unnoticed. I take this omission to reflect a recurrent tendency within radical decolonial politics according to which gender issues and struggles are downplayed and deprioritised in relation to issues of material redistribution, as exemplified by Andile Mngxitama’s intervention in the debate on protests by LGBTI activists against Zanu-PF’s homophobic party culture.

Keywords: activism; contemporary art; decolonisation; gender; intersectionality; LGBTQIA; race; South Africa; student protests; white privilege

 

1. Inleiding: kuns in die tyd van radikale dekolonialisering

In 2016 was daar groot ontsteltenis en omstredenheid oor die kunswerk F*** White People van Dean Hutton, ’n niegenderkonformerende vertoonkunstenaar.1 Hierna sal ek die afkorting FWP gebruik om na hierdie werk te verwys. FWP is geskep in die konteks van die hewige proteste van hoofsaaklik arm, swart universiteitstudente in Suid-Afrika in 2015 en 2016. Ek gebruik die term swart hier in ’n breë sin om te verwys na bevolkingsgroepe wat gedurende Suid-Afrika se geskiedenis van slawerny, kolonialisme en apartheid onderdruk is. Ek sal die letterwoord SKI, wat staan vir “swart, kleurling en Indiër-”, gebruik om na hierdie groepe te verwys. Die studenteproteste was onder andere gerig teen die voortslepende strukturele rassisme en invloed van kolonialisme en apartheid in die hoëronderwyssektor. Wat hiervan getuig, is die koloniale, Westerse karakter van die universiteit as ’n kulturele en institusionele omgewing, ’n hoofsaaklik Eurosentriese kurrikulum, die samestelling van die akademiese personeel wat nie demografies verteenwoordigend genoeg is nie, en ’n te hoë finansiële las op arm, hoofsaaklik swart studente (Booysen 2016). Alhoewel huidige SKI-generasies gebore is in ’n demokratiese Suid-Afrika met vryhede en kanse waarvan vorige generasies slegs kon droom, het die proteste gewys dat ras, kolonialisme en apartheid steeds ervaar word as ’n belangrike, negatiewe faktor in die moontlikhede om hierdie vryhede en kanse daadwerklik aan te gryp. SKI-studente het aangevoer dat dit as ’n gevolg van die genoemde kwessies baie uitdagend is om suksesvol te wees in hulle studies. Omgekeerd is daar ’n sterk gevoel dat wit studente nie in dieselfde mate daardeur geaffekteer word nie, of inteendeel selfs, dat hulle wit, Westerse waardes, kultuur en geskiedenis deur die universiteit bevestig word en hulle in hierdie opsig bevoorreg word. Dit word ervaar as ’n anakronistiese, ongeregtige oorblyfsel van Suid-Afrika se verlede van wit bevoorregting. Dit verklaar waarom die studenteprotesteerders se diskoers van radikale dekolonialisering deur ’n sterk identiteitspolitiek en polariserende denke in terme van ras gekenmerk word.

Die oorsake van die proteste is ’n komplekse, veelsydige saak waarvan institusionele rassisme en wit bevoorregting slegs enkele fasette is wat op hulle eie reeds baie kompleks is. ’n Ander, belangrike aspek is byvoorbeeld die onderbefondsing van die hoër onderwys deur die owerheid, wat, in kombinasie met stygende studentegetalle, tot steeds hoër universiteitsgelde lei. Die gebrekkige befondsing is nie net ’n kwessie van ’n tekort aan finansiële middele van die owerheid nie, maar deels ’n gevolg van aanhoudende verkwisting en korrupsie, soos studenteprotesteerders self aangevoer het. Daar kan ook gewys word op sekere globale ontwikkelings, soos die toenemende neoliberalisering van universiteite wat, soos Olivier (2017) aangevoer het, onder andere lei tot ’n genadelose klimaat van sosiaal-Darwinistiese “oorlewing van die fiksste” waaraan wit studente eweseer uitgelewer is. In Suid-Afrika maak die problematiek van ras en apartheid die speelveld egter nog meer ongelyk. As ’n gevolg van sogenaamde intergenerasie-agterstelling gedurende eeue van kolonialisme en apartheid op talle vlakke – tewerkstelling, onderwys, leefomgewing, ens. – moet die meerderheid van SKI-studente vanuit ’n minder gunstige posisie meeding, iets waarvoor die aangebode finansiële ondersteuning nie voldoende kan vergoed nie.

Al is die studenteproteste as sulks nie die primêre onderwerp van hierdie artikel nie, is hierdie baie kort en algemene verduideliking noodsaaklik om die konteks van FWP te skets. Ek beskou hierdie kunswerk as kenmerkend vir die studenteprotesbeweging se kultuurpolitiek, wat ’n belangrike onderdeel daarvan uitmaak. Dink byvoorbeeld aan wat die studenteproteste in Maart 2015 laat ontvlam het, te wete die stryd teen die standbeeld van Cecil John Rhodes op die hoofkampus van die Universiteit van Kaapstad. Na aanleiding daarvan het ’n dekolonialiserende beeldestormery regoor die land losgebars onder die hutsteken #RhodesMustFall wat die aanvoorwerk vir die latere, meer omvattende #FeesMustFall-opstande gedoen het.

Die oorheersende kultuurpolitiek van wat ook wel die Fallist movements genoem word, het ek elders (2017, 2019a) gekenmerk as kras, konfronterend, uittartend, obseen, vulgêr en militant, en ek het die term decolonial philistinism voorgestel om hierdie politiek te benoem.2 Die term filistinisme of kultuurloosheid (Pharos) word hier egter nie in die gebruiklike, negatiewe betekenis gebruik nie, maar word beskou as ’n regmatige strategie wat toegepas word deur studenteprotesteerders. ’n Ander tendens onder die huidige studenteprotesbewegings wat ook dikwels beskou word as “filistyns” is die ekstreme politisering van kuns en kultuur. Hierby word kultuurvoorwerpe of -praktyke herlei tot basiese prosesse of motiewe soos hulle ideologiese en institusionele aandadigheid aan kolonisering en apartheid. Kuns en kultuur word hiermee omskep tot ’n gevegsfront in die stryd vir dekolonialisering. Deur sy blatante aktivistiese posisionering asook sy polariserende en uitgesproke karakter, maak FWP ongetwyfeld deel uit van die estetiese en kulturele politiek van huidige radikale dekolonialiseringsbewegings. Hutton was destyds ook ’n meestersgraadstudent by die Universiteit van Kaapstad.

Wat FWP spesifiek interessant maak, is dat dit ’n werk van ’n “wit” kunstenaar is met die bedoeling om die stryd van SKI-studente te ondersteun. Dit skep ’n interessante spanning, omdat wit mense veral in die huidige radikale dekolonialiseringsbewegings outomaties en onlosmaaklik vereenselwig word met onregmatige bevoorregting en houdings van meerderwaardigheid. ’n Belangrike deel van hierdie artikel fokus op die uiters kritiese ontvangs van Hutton se uiting van interrassige solidariteit deur ’n swart kritikus. Die rol van Hutton se alternatiewe, niegenderkonformerende posisionering in “hulle” kunspraktyk sal ’n belangrike rol in my beoordeling van hierdie kritiek speel.3 Oorwegings van sogenaamde interseksionaliteit, met name tussen die problematiek van ras en wit bevoordeling enersyds en gendermarginalisering in al sy verskeie vorme andersyds, is sentraal vir my betoog. Die sleutelvrae van hierdie artikel is die volgende: Hoe kan wit kunstenaars wat krities staan teenoor “witheid”, ’n bydrae lewer tot die huidige swartbevrydingspolitiek? Hoe word sulke bydraes deur SKI-groepe ontvang? En hoe kan die genderdimensie hierby in ag geneem word?

’n Ander doelstelling van hierdie artikel is om te wys hoe ’n oënskynlik reglynige, ondubbelsinnige werk soos FWP oor meerdere, minder vanselfsprekende betekenisse beskik. ’n Mens kan dit stel dat die kunskritiek meestal gerig is op skynbaar meer esteties komplekse werke wat ’n politieke boodskap slegs op ’n gesublimeerde, subtiele wyse uitdruk. ’n Eksplisiet politiese werk soos FWP mag gevolglik nie dieselfde aandag ontvang nie. Die werk kan maklik verwerp of verkleineer word as louter sensasioneel, simplisties en populisties, of as “veels té polities” met “té min kuns” daaraan. Dergelike kritiese resepsie is nie regverdig nie en dit dui eerder op sekere estetiese vooroordele in die kunswêreld wat gebaseer is op diepere politieke posisionerings en voorkeure. Hierdie artikel wil sulke persepsies en opvattings uitdaag.4

Die onverdrote partydige karakter van die werk, asook die aggressiewe in-die-gesig-vat van wit mense kan by sekere kritici ook afkeer wek op grond van nie-artistieke, politieke oorwegings. Die kritiese resepsie van die werk kan hierdeur beperk bly tot ’n stryery oor die geldigheid van sy politieke posisie of stellings. Dit beteken nie dat sodanige debat nie belangrik is nie, en die uitlok daarvan is ongetwyfeld een van die doeleindes van FWP. Dit betref egter komplekse en – in ’n sterk gepolariseerde land soos Suid-Afrika – meestal omstrede kwessies wat meerdere tipes dissiplinêre kennis vereis om grondig bespreek te kan word en wat ’n studie op sy eie sou behels. Die doel van hierdie artikel is beperk tot ’n bespreking van die esteties-politieke aspekte van FWP. Ek sal dus nie oordeel oor die geldigheid van die verkondigde politieke standpunte nie en sal hoogstens ’n paar aspekte daarvan verduidelik, kwalifiseer of nuanseer. My primêre doel is om ’n sogenaamde immanente analise en kritiek van FWP te lewer, waardeur die kunswerk beoordeel word op sy eie eksplisiete en implisiete politieke en artistieke aannames en doelstellings onafhanklik van die geldigheid daarvan. Met ander woorde, as mens aanvaar dat ’n wit kunstenaar hom/haar onverdrote skaar by die radikale dekolonialiseringspolitiek van SKI-studente, wat kan dan gesê word oor die tipe kuns wat vanuit hierdie politieke verbintenis voortkom, oor die formele, estetiese middele en strategieë wat gebruik word, oor die verhouding tussen hierdie artistieke middele en strategieë en die politieke doelstellings, oor die sukses al dan nie daarvan om hierdie doelstellings te behaal, ens. Dieselfde benadering word gevolg vir die bespreking van die kritiese resepsie van FWP, met name deur kritici wat dieselfde politieke doelstellings nastreef. Vrae wat hier gestel kan word, is hoe werke soos FWP beoordeel word vanuit hierdie radikale dekolonialiseringsperspektief – maar weer eens onafhanklik van die omstredenheid daarvan; watter kriteria hanteer word; watter tipe kunskritiek dit voortbring en die moontlike beperkings daarvan; asook watter algemene gevolgtrekkings wit kunstenaars wat die dekolonialiseringspolitiek aktief wil ondersteun, vir hulle praktyk daaruit kan trek. Dit is die tipe vrae en problematiek waarop hierdie artikel fokus.

 

2. Struktuur van die artikel

Die artikel bestaan uit vier dele. Die eerste deel fokus op FWP self. Eers noem ek die ooglopende betekenisse en bedoelings (afdeling 3); daarna ontwikkel ek ’n minder vanselfsprekende interpretasie aan die hand van die begrip ooridentifikasie (afdeling 4). Ek interpreteer die werk ook aan die hand van wat ek beskou as ’n politiek van “strategiese vereenvoudiging” kenmerkend van die huidige radikale swart dekolonialiseringspolitiek.

In die tweede deel kyk ek na kritiek teen FWP sowel van die kant van wit, regse groeperings (afdeling 5) as van die teenoorgestelde kant van die swartbevrydingspolitiek (afdeling 6). Ek fokus met name op kritiek van ’n swart kultuurkritikus, Kwanele Sosibo, aangaande FWP se spesifieke vorm van “wit bondgenootskap” met die stryd van SKI-groepe en sy aantyging dat die werk onder die vermomming van verset teen wit bevoordeling dit eintlik verder voer teen die prys van swart lyding.

In die derde deel ontwikkel ek ’n aantal kritiese stellings oor verskillende aspekte en implikasies van Sosibo se kritiek. Ek voer aan dat sleutelbegrippe binne die dekolonialiseringsdenke veelal te reglynig toegepas word en wys op die verontagsaming van wat ek beskou as ’n sleutelkomponent van FWP, te wete die openbare opvoering van “rasseverraad” of “rasseselfmoord” (afdeling 7), asook die onderwaardering van hierdie tipe simboliese handelinge as gevolg van die oorbeklemtoning van materiële herverdeling (afdeling 8). Ek voer ook aan dat wit kunstenaars wat hulleself met die swartbevrydingspolitiek vereenselwig, hulleself in ’n amper onuithoudbare posisie bevind, omdat teenstrydige en onversoenbare eise aan hulle gestel word (afdeling 9).

In die vierde en laaste deel bespreek ek die genderdimensie van FWP. Ek verbind dit met interne spanninge en debatte binne die dekolonialiseringsbewegings oor die belangrikheid en dringendheid van die stryd teen gendermarginalisering in verhouding tot kwessies van rassebevoorregting en kolonisering (afdeling 10). Ek beroep my op ’n begrip van Kobena Mercer om op ’n meer komplekse, genuanseerde en produktiewe wyse te dink oor die verstrengeling van kwessies van ras, gender en klas by die beoordeling van interseksionele kunswerke soos FWP (afdeling 11).

 

3. Vergryp jouself aan jou witheid!

FWP is geïnspireer deur ’n swart #FeesMustFall-protesteerder wat tydens ’n protesaksie by die Universiteit van die Witswatersrand ’n T-hemp gedra het met die leuse “Being black is s***” aan die voorkant geverf en die leuse “F*** white people” aan die agterkant.5 Dit is belangrik om die student se motivering te noem, aangesien dit ’n meer konkrete aanduiding gee van die onderliggende frustrasies van die studenteproteste. Die student het die volgende gesê:

I just took a T-shirt and I wrote how I was feeling at that moment. I was angry because so many black students, who are good students, were facing financial exclusion […]

It also came from the fact that white students can pay fees and there is no stress for them. It’s the complete opposite for black students, who are facing uphill battles all the time. Some students may not have been financially excluded but they’re sleeping in libraries or have no textbooks. (Aangehaal in Chernick 2016)

Op ’n persoonlike, anekdotiese vlak blyk dit die bogenoemde feit te bevestig dat ’n groot groep van SKI-studente as ’n gevolg van prosesse van agterstelling wat oor meerdere generasies strek, vandag in baie moeilike omstandighede moet studeer en lewe, wat uiteraard baie ontmoedigend moet wees. Daarteenoor dui dit daarop dat wit studente – oor die algemeen – as gevolg van intergenerasiebevoorregting in ’n beter ekonomiese posisie is, wat dit vir hulle relatief makliker en gemakliker maak om te studeer. Dit is te verstane dat dit tot gevoelens van onregverdigheid, gegriefdheid en wrok teenoor wit studente en hulle bevoorregting lei, al is daar, soos reeds genoem, meerdere faktore hier ter sprake. Dit moet ook genoem word dat daar in die nuwe demokratiese bestel ’n broodnodige proses geïnisieer is om die eeue lange agterstelling van niewit bevolkingsgroepe ongedaan te maak. Die beleid vir swart ekonomiese bemagtiging (BEE) is byvoorbeeld ingestel om die groot welvaartskloof tussen wit en ander bevolkingsgroepe te vernou. Die uitkoms daarvan, 25 jaar na die einde van apartheid, blyk egter te wees dat dit veral ’n swart elite bevoordeel het. Daar is ’n poging onderneem om dit te korrigeer deur middel van sogenaamde breëbasis- swart ekonomiese bemagtiging (BBBEE ), maar die impak van beide beleide word aansienlik deur korrupsie gekniehalter. Die feit is dat die lewens en kanse van die meerderheid van SKI-groepe vandag nog steeds sterk bepaal word deur intergenerasieprosesse van agterstelling ten spyte van beleidsinisiatiewe.

By wit bevolkingsgroepe lei hierdie beleid van “omgekeerde bevoorregting” soms tot ’n gevoel van agterstelling, aangesien dit die behoud van hulle bestaande welvaartsvlak bemoeilik. Die feit dat hulle na die einde van apartheid baie minder politieke mag het as ’n minderheidsgroep, dra ook by tot hierdie gevoel. Ondanks die genoemde regstellende beleid is die kapitaal – materieel, maar ook in terme van opleiding, vaardighede, ens. – wat die meerderheid van wit mense tydens apartheid kon opbou, egter nog voldoende om hulle kinders ’n relatiewe voordeel te bied in terme van (hoër) onderwys, teenoor die meerderheid van SKI-mense. Dit wil nie sê dat jong wit mense nie ook geaffekteer is deur sekere problematiese aspekte van hoër onderwys nie, maar dat die meerderheid van hulle beter daarteen beskerm is deur hulle hoër sosio-ekonomiese posisies. As in die hieropvolgende gepraat word van “wit voorregte” of “wit bevoorregting” is dit teen die agtergrond van hierdie kompleksiteite en nuanses.

Hutton het die student se tweede strydkreet – “F*** white people” – vir die omstrede kunsinstallasie gebruik en dit omskep in ’n patroon wat bestaan uit horisontale stroke met die herhaling van die woorde “f***”, “white” en “people”. Die woorde kan dan vertikaal gelees word as “f*** white people”, maar ook byvoorbeeld as “white people f*** white people” en “people f*** white”, soos Hutton self aangedui het (aangehaal in Sosibo 2017). ’n Ander onderdeel van die installasie was ’n stoel oorgetrek met dieselfde patroon. Hutton het ook ’n broek en hemp op basis van die patroon gemaak wat Hutton beskryf as ’n “tailored object of protest” (Hutton 2017). Daarnaas is Hutton se goue stewels ook by die werk uitgestal, wat beskou kan word as Hutton se artistieke handelsmerk (later meer daaroor). Die kunsinstallasie in die Iziko-galery is eintlik slegs ’n onderdeel van ’n groter projek waartydens Hutton hulle FWP-uitrusting orals gedra het om witheid sigbaar te maak – in soverre dit nie alreeds so is nie – en aanwesig te stel.

Uit uitsprake van Hutton blyk duidelik dat Hutton volmondig instem met die radikale dekolonialiseringspolitiek van SKI-studente. Hutton beaam ook die problematiese posisie van wit studente en hulle bevoorregting. In ooreenstemming hiermee, roep Hutton wit mense op tot selfkritiek, selfverloëning en selfs selfskending. Dink aan die volgende uitspraak:

I am sure that many, and in particular young people in your [white, South African] communities, have begun to wake [sic] from the indoctrination of white supremacy and are ready to fuck the white in them too. Those that are tired of compromising their humanity in exchange for the stolen benefits of 500 years of white supremacy, colonialism and genocide are welcome to email me. (Hutton 2017)

Weer eens is ’n aantal kwalifikasies aan die orde. Eerstens, bo en behalwe die reeds genoemde problematiek van oorblywende wit bevoorregting, word “white supremacy” – wit heerskappy of oppermagtigheid – asook ’n innerlike “witte” of “witheid” as ’n belangrike teiken genoem. Dit is ’n toevoeging tot die studentebetoger se ekonomiese siening van wit voorreg. Witheid en wit heerskappy kan beskou word as ’n mentaliteit, houding en gevoel van meerderwaardigheid wat die subjektiwiteit van baie wit mense in belangrike mate struktureer en ’n oorblyfsel is van apartheid as ’n ekstreme regime van wit heerskappy. Wit oppermagtigheid moet in hierdie konteks nie verstaan word in terme van daadwerklike politieke of ekonomiese mag nie. Soos reeds genoem, is dit na die val van apartheid tot ’n meerdere of mindere mate ingeperk. Dit verwys eerder naar ’n vorm van simboliese, kulturele en ideologiese mag of kapitaal. Alhoewel daar ook op hierdie vlak ’n korreksie waarneembaar is waarby “swart” of “inheemse” kulture meer waardeer word, het witheid nog steeds ’n disproporsioneel oorheersende invloed in die Suid-Afrikaanse samelewing. Dit is ook te danke aan ’n toenemende Westerse dominansie op ’n globale vlak, waarby die Westerse samelewing en kultuur beskou word as aksiologies meerderwaardig, wat uiteraard ’n uiters aanvegbare siening is. Soos reeds vermeld, is witheid en wit oorheersing belangrike teikens van die onlangse studenteproteste, waarby aangevoer word dat die universiteite se institusionele omgewing, kultuur en studieaanbod gevoelens van wit meerderwaardigheid bevestig en versterk, terwyl die ander kulture te min erkenning kry.

Tweedens is dit duidelik uit die aanhaling dat alhoewel die slagspreuk frustrasie en woede teenoor wit mense uitspreek, die eintlike teiken die “wit” of “witheid” in wit mense is, en nie wit mense as sulks nie. Hutton doen dus ’n beroep op wit bevolkingsgroepe om af te reken met problematiese aspekte wat aan hul geskiedenis gekoppel is – soos idees van meerderwaardigheid. Witheid as ’n ideologiese bestel is iets waarteen vele blankes sélf deur die jare heen gestry het, en dit is te verstane dat Hutton daarop fokus aangesien Hutton, as ’n wit persoon, daarin geïmpliseer is en effektief ’n verskil kan maak.

Derdens: Bo en behalwe die bevegting van witheid blyk dit verder uit Hutton se uitsprake dat wit mense ook aangesê word om op materiële vlak ’n bydrae te lewer en om afstand te doen van die voordele wat hulle onregmatig sou bekom het ten koste van ander, niewit, groepe. Hutton noem spesifiek die teruggee van “grond” wat, weer eens, ’n baie omstrede kwessie is wat heelwat spesifikasies en kwalifikasies sou vereis om aan al die historiese, juridiese, praktiese en beleidsaspekte reg te laat geskied. In ooreenstemming met my algemene, immanente benadering sal ek hier – en verder in die artikel – nie ingaan op die omstredenheid van hierdie kwessie nie.

Ten slotte moet nog genoem word dat Hutton wit mense ook oproep om deel te neem aan inisiatiewe van SKI-groepe om hulle agtergesteldheid teen te werk.

 

4. F*** White People as ’n parodie van die dekolonialiserende populisme?

Op basis van Hutton se verduidelikings lyk die strekking en doelstelling van FWP dus taamlik eenvoudig en ondubbelsinnig. Dit kan beskou word as ’n werk waarin ’n wit kunstenaar die frustrasie van swart studente jeens wit bevoorregting en witheid letterlik ter lywe neem en hulself in ’n spandoek van hierdie frustrasie omskep. Hutton se kunspraktyk en artistieke persona word dus ten diens gestel van die dekolonialiserende beweging en Hutton tree op as ’n mondstuk wat die beweging se strydkrete versterk.

Ek wil egter aanvoer dat die werk sekere betekenisse skep wat ’n spanning teweegbring met die uitgesproke voornemens van die kunstenaar en daaropvolgende interpretasies aanneemlik maak. Dit dra dan by tot die dubbelsinnigheid en kompleksiteit van die werk. As ’n toe-eiening van die studentebetoger se strydleuse is daar twee ooglopende faktore wat die interpretasie van die oorspronklike leuse en die betekenis van FWP kompliseer. Eerstens is daar die feit dat dit ’n toe-eiening deur ’n wit persoon van ’n swart persoon se woorde behels. Tweedens is daar die feit dat hierdie toe-eiening gedoen word in die vorm van ’n kunswerk en die leuse afgesonder word van sy oorspronklike konteks en daarom moontlik ’n outonome status mag verkry. Beide faktore maak dat die werk nie so voor die hand liggend is om te lees of te verstaan as wat dit met die eerste oogopslag skyn te wees nie.

As ’n wit persoon se identifikasie met ’n strydkreet van SKI-groepe wat ’n wrok en aggressie teenoor wit mense uitdruk, sê die werk eintlik “F** me” of “F** myself”. ’n Mens kan ’n donker, absurde humor hierin herken, vergelykbaar met byvoorbeeld ’n vrou wat ’n T-hemp dra met die leuse “F** vrouens”. Verder kan die oordrewe selfhaat dalk as ongeloofwaardig voorkom vir wit mense, al sal hierdie indruk ook afhang van hulle politieke sienings en selfkritiese houding. As sulks kan FWP eweseer voorkom as ’n vorm van bravade, as ’n uitdaging gerig tot swart aktiviste om hulle dreigemente uit te voer en dalk in die verleentheid te bring: “Jy wil wit mense dus opf**? Wel, hier is ek! Waag dit maar.”

As ’n mens verby die betekenisse kyk wat geskep word deur die strydkreet en die opstelling van Hutton, en FWP in terme van vorm en tegniek beskou, is daar nog aspekte van die werk wat betekenisse en doeleindes suggereer wat verskil van Hutton s’n. Ek wil aanvoer dat daar ’n sterk indruk ontstaan van sogenaamde ooridentifikasie of oorbeklemtoning, ’n bekende strategie binne die wêreld van die kuns en aktivisme (sien byvoorbeeld Boie en Pauwels 2007). Hiervolgens word die oënskynlike ondersteuning van ’n sekere opvatting, praktyk of verskynsel ondermyn deurdat dit effens té ver gevoer word of té entoesiasties gedoen word. Hierdeur ontstaan twyfel by die toeskouer oor die ware posisionering van die kunstenaar of aktivis en dit mag selfs lyk asof hy/sy/hulle eintlik baie krities is oor die betrokke saak. As sulks skep ooridentifisering ’n subtiele effek van ironie.

In die geval van FWP kan ’n mens so ’n element van oordrywing agterkom in die wyse waarop die studenteprotesteerder se ietwat onbeholpe geskilderde slagspreuk op ’n T-hemp deur Hutton tot ’n professioneel gestileerde patroon, ’n handelsmerk selfs, omskep word. Die patroon word dan ook sommer gebruik om bypassende klere van te maak en ’n stoel mee te stoffeer, wat van die werk ’n tipe Gesamtkunstwerk maak. Dit skep ’n effek van oordadigheid en ’n kloustrofobiese, propagandistiese gevoel, aangesien daar nie ’n manier is om te ontsnap aan die boodskap nie. Dit raak ook ’n bietjie absurd, selfs klugtig. ’n Mens kan byvoorbeeld wonder watter tipe aktivis die moeite sal doen om sy/haar/hulle stoel met papier-mâché met strydkrete op oor te trek. Die oënskynlik dodelike erns van Hutton se houding en verklarings plaas nie noodwendig ’n demper op hierdie effekte nie. Inteendeel, dit kan juis gesien word as iets wat daartoe bydra, vergelykbaar met ’n komediant wat mense laat lag deur die mees verregaande standpunte op onbewoë wyse te verkondig.

Ek wil aanvoer dat as ’n gevolg van hierdie oorbeklemtoning betekenisse ontstaan wat afwyk van FWP se eksplisiete boodskap en die doelstellings daarvan selfs problematiseer. Op grond van die meganisme van ooridentifisering kan FWP eweseer geïnterpreteer word as ’n parodie op die onomwonde en kras strydkrete wat kenmerkend is vir die huidige studentebewegings waarvolgens alles moet “val” of “gef**” word, of “k**” en “str***” is. Hierdie tendens kan verstaan word as ’n uitdrukking van jong, SKI-mense se ontgogeling, woede en pyn, asook van die gevoel van die dringendheid van radikale verandering. ’n Mens kan hier ook praat van ’n “strategiese vereenvoudiging” of selfs die opvoer van ’n ouer styl van politiek, ’n uitdrukking van wat ek “struggle nostalgia” in postapartheid Suid-Afrika genoem het (Pauwels 2019b). Dit verwys na ’n verlange onder die gemarginaliseerde jeug na eenvoudiger tye met ’n duidelike teenstander en, gevolglik, ’n helderder idee van wat om te doen om mens se ellendige lot te verander. Hierdie tendense kan byvoorbeeld ook herken word in die strydkrete van die Economic Freedom Fighters (EFF) wat ’n oproep doen om allerhande goed te “nasionaliseer”, “terug te vat”, te “vermoor” of “die keel af te sny”.

Die doel hier is nie om Hutton se bedoelings te bevraagteken of om ’n mate van dubbelhartigheid aan die werk toe te dig nie. Hutton lyk heeltemal opreg en doodernstig oor die ingenome posisie, en in Hutton se uitsprake oor FWP is daar nie sprake van enige ironie nie. Dit beteken egter nie dat die genoemde betekenisse en alternatiewe interpretasies nie eweseer aanwesig en moontlik is nie. Dit is ’n welbekende hermeneutiese feit dat ’n kunswerk onvermydelik betekenisse, gevoelens of reaksies by die gehoor veroorsaak los van ’n kunstenaar se bedoelings. My eerste punt is dat daar teenoor die lesing van FWP as ’n eenvoudige, dalk selfs simplistiese, eendimensionele propagandakunswerk ander, meer subtiele en teenstrydige lesings moontlik is wat aan die werk ’n komplekse, meerduidige kwaliteit verleen asook ’n interne spanning laat ontstaan.

 

5. F*** White People as ’n doeltreffende werwingsveldtog vir wit regses?

In die dikwels hewige, kritiese reaksies teen FWP, van die kant van wit regses sowel as van voorstanders van SKI-groepe se dekolonialiseringspolitiek, is hierdie subtiele effekte van die kunswerk se artistieke vorm egter nie raakgesien nie en na my wete het die kunstenaar dit ook nie bewustelik uitgespel in die kritiese gesprek oor die werk nie. Dit het gevolglik ook nie ’n rol gespeel in die beoordeling van die werk nie.

As ’n gevolg van FWP se ekstreme opstelling was dit te verwagte dat daar baie negatiewe reaksies van wit, regse groepe sou kom. Van die mees ekstreme kant het die berugte Ku Klux Klan teen die werk uitgevaar. Binne Suid-Afrika, en aan die meer gematigde regterkant van die politieke spektrum, was daar ’n hewige reaksie van die Cape Party – ’n afskeidingsparty wat hom vir die onafhanklikheid van die Wes- en Noord-Kaap, asook van ’n aantal munisipaliteite in omliggende provinsies beywer. Die party het ’n protesaksie in die kunsgalery gehou wat tot ’n onderonsie gelei het.6 In ooreenstemming met ’n immanente benadering sal ek net nagaan in watter mate FWP daarin slaag om sy doelstellings in die geval van wit, regs groepe te bereik. Volgens dieselfde benadering sal ek my nie uitspreek oor die verdienste van regse kritieke nie, maar kyk hoe dit in verhouding tot hulle eie eksplisiete of implisiete opvattings en posisies staan.

In die lig van die voorspelbare reaksies van wit, regse organisasies sou FWP, eerstens, kon verwyt word dat dit slegs daardie groepe tart en relatief marginale regse organisasies ’n unieke platform vir hulle idees gee. Erger nog kan die werk se ekstreme, aggressiewe opstelling blameer word dat dit ’n geleentheid skep vir wit regses om hulleself in ’n positiewe lig te stel en hulleself as verantwoordelik en vredeliewend voor te hou. Dink aan die beskuldigings van die Vryheidsfront Plus-leier, Pieter Groenewald (2017) teen FWP. Hy het die werk daarvoor blameer dat dit “kortsigtig”, “opruiend”, “aanhitsend” en “beledigend” is, asook “wrywing” tussen gemeenskappe veroorsaak en die “sensitiewe verhoudings” tussen hulle “beskadig”. Dit is nogal ironies – om nie te sê opportunisties nie – in die lig van die party se sentrale slagkreet tydens die onlangse nasionale verkiesing in 2019, “Slaan terug”. Eerder as om spanninge tussen gemeenskappe te wil vermy, wakker hierdie strydlustige slagspreuk gevoelens van slagofferskap en wraaksug by die wit gemeenskap aan en as sulks is die party aandadig aan juis dit waarvan dit FWP beskuldig. ’n Soortgelyke ironie kan bespeur word in die plakkaat van die Cape Party se protesaksie, met die leuse “Love thy neighbour”. Dit is duidelik die party wil eintlik niks te doen hê met die oorwegend swart bevolking buite die Kaapprovinsies nie, en sy kritiek teen die politiek van die ANC, as die voorkeurparty van die swart bevolking, is baie neerbuigend en antagonisties. Dit getuig nie onmiddellik van naasteliefde nie.

Nog ’n ongewenste newe-effek van die ekstreme houding van FWP kan wees dat dit meer gematigde of selfkritiese lede van wit gemeenskappe onnodig bang maak deur die indruk van ’n klimaat van wydverspreide haat teen hulle te skep, asook die indruk dat geweld op hande is. Dit mag wit mense dalk in die arms van regse groeperings indryf. FWP mag dan sodoende as ’n doeltreffende werwingsveldtog vir sulke groeperings funksioneer. In die lig van die genoemde aanduiding dat die werk witheid teiken, eerder as wit mense as sulks, sou ’n ander slagspreuk of titel soos F*** whiteness dalk minder hierdie uitwerking gehad het, en dus dalk meer strategies gewees het om wit mense krities oor die betekenis van “witheid” as ’n ideologie te laat dink. Andersyds moet mens ook versigtig wees om witheid los te maak van wit mense as die “draers” daarvan. Dit dwing wit mense om hulle persoonlike, konkrete aandadigheid aan witheid te ondersoek en bevraagteken, eerder as om dit as ’n algemene ideologiese konstellasie in ’n abstrakte sin te beskou.

 

6. Wit bondgenootskap met swart bevryding? Nee dankie!

Minder voorspelbaar dalk as die reaksies van wit regses is die louwarm of selfs vyandige ontvangs van FWP deur party swart kritici. ’n Mens sou dink dat ’n wit persoon se radikale selfkritiek en betuiging van solidariteit met SKI-groepe se dekolonialiseringstryd verwelkom sou word. Dit is egter glad nie so nie, wat swart besware baie interessant maak om te bespreek. In die oorblywende deel van die artikel sal ek my spesifiek rig op kommentaar van Kwanele Sosibo, ’n swart kultuurkritikus. Alhoewel Sosibo (2017) sê FWP is “laudible”, “loud” en “emphatic” as ’n “statement”, is hy terselfdertyd baie krities oor die fundamentele strekking, doel en opstelling van die werk. Enersyds opper hy besware in dieselfde trant as hier bo genoem. Hy betwyfel eweneens die doeltreffendheid van FWP vir die bestryding van rassisme en witheid en sê in hierdie verband dat die werk “might just serve to maintain the status quo” en dat dit moontlik slegs “at face value” slaag (Sosibo 2017).

Sosibo se belangrikste kritiek betref egter wat hy beskou as die spesifieke vorm van “white allyship” wat deur FWP vergestalt word. Hy definieer wit bondgenootskap in die algemeen as ’n geval van “a person of privilege showing solidarity with a marginalised group”. Sosibo ag FWP se tipe wit bondgenootskap hoogs problematies op die huidige “decisive moment in our history”, soos hy dit stel. Dit verwys na die destydse dekolonialiserende studentepolitiek en dit is belangrik om hierdie konteks in gedagte te hou in die bespreking wat volg, aangesien dit ’n belangrike aanduiding gee van Sosibo se eie politieke perspektief. Sosibo som die strekking en probleme van FWP se vorm van wit bondgenootskap soos volg op:

[…] the idea that white privilege can be dispensed as a tool to normalise our society, that whites can use their privileges to dismantle the very privileges they have. This happens while the black population waits, affording white people the space to weep, introspect and reckon with the harrowing guilt of privilege and continuing racism. […] This allows them to somehow throw resources at the problem until they gather the moral rectitude to return what are in effect stolen resources.

In ooreenstemming met my immanente benadering sal ek my weer eens nie uitlaat oor die geldigheid van sekere terme of argumente soos wit bevoorregting en gesteelde hulpbronne nie. In die voorafgaande het ek reeds gewys op die kompleksiteit van hierdie kwessies. My primêre doel is om vanuit ’n aanvaarding van Sosibo se radikaal-dekolonialiserende perspektief in die eerste plek na te gaan presies hoe sy kritiek, en die verskeie aspekte daarvan, verstaan moet word en wat dit alles impliseer, met name vir die beoordeling van FWP as ’n kunswerk wat dieselfde perspektief onderskryf, of selfs meer in die algemeen vir die moontlikhede vir selfkritiese wit mense om die dekolonialiserende politiek te ondersteun. Ek sal byvoorbeeld verder aanvoer dat hierdie begrip van wit bondgenootskap nie ’n heeltemal getroue weergawe is van FWP se doelstelling of moontlike uitwerking nie en dus, binne Sosibo se eie perspektief, nie korrek is nie.

In Sosibo se kompakte, suggestiewe karakterisering kan minstens vier kritiese punte onderskei word.

Eerstens, en die belangrikste, is die kwessie van wit bevoorregting en die vermeende geloof by party wit mense wat selfkrities hierteenoor staan dat dit aangewend kan word om sodanige bevoorregting te beveg of tot niet te maak. Uit die aanhaling kan mens aflei dat Sosibo meen wit mense behoort hulle voorregte sonder meer prys te gee as hulle ernstig is oor die regstelling van die verlede en huidige onregte teen niewit bevolkingsgroepe. Sosibo se begrip wit bondgenootskap kan dalk geïdentifiseer word met die sogenaamde white saviour complex wat Straubhaar (2015), in ’n onderwyskonteks, soos volg omskryf: “The idea that socially privileged individuals possess, simply by virtue of their position, some unique ability or power to help less-privileged people in ways they’re unable to help themselves.” Behalwe ’n sekere mate van neerbuigendheid, beskryf Straubhaar dieselfde, oënskynlik paradoksale logika van die aanwending van bevoorregting as ’n manier om bevoorregting te bestry. Dit staan in teenstelling met die onmiddellike oordrag van wit voorregte sodat agtergesteldes in staat gestel word om hulle marginalisering op hulle eie manier te beveg.

Om Sosibo se kritiek met betrekking tot FWP te verstaan is dit noodsaaklik om eers uiteen te sit watter wit voorregte moontlik op die spel is in hierdie spesifieke kunskonteks. ’n Mens kan byvoorbeeld wonder oor watse hulpbronne ’n jong kunsstudent soos Hutton oor beskik wat prysgegee kan word. Dit geld waarskynlik vir kunstenaars in die algemeen, aangesien kuns allesbehalwe ’n winsgewende of invloedryke besigheid is. Die bevoorregting van ’n wit kunstenaar moet dalk in die eerste plek in ’n niemateriële sin verstaan word, in terme van ’n groter simboliese status of “kapitaal”. Vir ’n lang tyd in Suid-Afrika se geskiedenis is kuns beskou as wit mense se besigheid, of roeping selfs. Omgekeerd was daar die oorheersende opvatting dat swart mense nie in staat was om kuns te skep nie, kuns van ’n ondergeskikte, “primitiewe” kwaliteit gemaak het in vergelyking met Westerse kuns, of nie kuns nodig gehad het nie, aangesien hulle net basiese vorme van arbeid kon verrig. Dit gaan dus oor die historiese, strukturele en institusionele prosesse van bevoorregting van wit kunstenaars. Dink byvoorbeeld aan wit mense wat eksklusiewe hulpbronne gegee is om hulle kunstalente te ontwikkel, soos toegang tot kunsonderrig.7 Hutton verwys na iets soortgelyk met woorde soos “my own complicity of functioning within a particularly white art culture, museum and gallery context” (aangehaal in Sosibo 2017).

As gevolg van hierdie hoër simboliese status kan dit gestel word dat werke van wit kunstenaars ’n groter kans het om opgeneem te word in uitstallings, meer media-aandag kry en in die algemeen ernstiger opgeneem word in die kunswêreld. Dit het weliswaar al baie verander in die afgelope twee dekades, met verskeie swart kunstenaars wat nasionaal, en ook internasionaal erkenning gekry het.8 Dit bly wel ’n feit dat deur die beter algemene ekonomiese posisie van wit mense as gevolg van strukturele bevoorregting ten tye van kolonialisme en apartheid, hulle meer tyd en middele tot hulle beskikking het om ’n luukse aktiwiteit soos kuns te bedryf.

Sosibo se belangrikste kritiek op FWP kan dan as volg opgesom word: Wit, progressiewe kunstenaars mag dan wel met veel bravade oproep om witheid te beveg – hulle is daartoe in staat slegs deur hulle struktureel bevoorregte posisie in die Suid-Afrikaanse kunswêreld, wat ’n hardnekkige oorblyfsel is van eeue van kolonisering. Dus kan aangevoer word dat daar ’n teenstrydigheid of diskrepansie bestaan tussen Hutton se radikale boodskap en houding enersyds en die problematiese materiële, institusionele moontlikheidsvoorwaardes daarvan andersyds. Nog anders gestel: Mens kan ’n performatiewe paradoks in FWP gewaar waarby die doelstellings wat die kunsaksie wil bewerkstellig, ondermyn word deur die middele waarmee dit gedoen word. Die oproep tot die uitwissing van wit bevoorregting mag dan welmenend of stellig wees, maar dit word ondergrawe deur die dieperliggende strukture van bevoorregting en institusionele meganismes wat die kunstenaar bemagtig om hierdie oproep te doen. As sulks word wit bevoorregting bevorder op die einste oomblik waarop vir die uitwissing daarvan gepleit word.

Sosibo se kritiek gaan egter nog ’n stap verder. Hy voer aan dat die onregverdig verworwe voorregte van Hutton as ’n wit kunstenaar in FWP nie net gehandhaaf word nie, maar dat dit selfs nog versterk word – dat daar ’n verdere opgaring van wit artistieke kapitaal ten koste van onderdrukte groepe is. Soos hy uitwys, is die “opbrengs” van FWP vir Hutton “a master’s thesis and a career turn” in teenstelling met die negatiewe gevolge vir die student wat “a suspension and an uncertain future” in die gesig staar.9 Interessant genoeg het Hutton aangedui dat een van die bedoelings met FWP was om te wys op hoe ’n wit persoon kan wegkom met dieselfde goed waarvoor swart mense aangekla word (Pather 2017). Hoe dan ook, op grond van die bostaande voer Sosibo aan dat die bestendiging van wit artistieke kapitaal gebeur deur die toe-eiening van “swart pyn” en deur swart stemme van protes teen wit bevoorregting te oorskreeu. Hy beweer byvoorbeeld dat FWP “re-enacts silence”, en Hutton het ook toegegee dat hierdie kritiek geregverdig is (Sosibo 2017).

In hierdie opsig is Sosibo se eerste punt van kritiek duidelik: Wit kunstenaars se gebruik van hulle eie bevoorregting as ’n instrument om dit te beveg, lei feitelik tot die behoud en selfs bevordering van hierdie bevoorregting en dus allesbehalwe tot die “normalisering” van verhoudings in Suid-Afrika se postkoloniale samelewing. Dit is inteendeel selfs kontraproduktief en veroorsaak verdere skade. Die titel van Sosibo se kommentaarstuk, “Is ‘F*** White People’ f***ing itself?”, kan gelees word as ’n uitdrukking van die selfondermynende karakter van Hutton se kunsaksie. Ek sal later hierdie eerste, en belangrikste, punt van kritiek behandel.

Dan is daar nog ’n paar minder prominente besware wat onderskei kan word in die aanhaling hier bo. ’n Tweede punt van kritiek betref die doeleindes waarvoor die onregverdig verkrygde hulpbronne volgens Sosibo deur wit mense aangewend word, naamlik om hulle eie skuldgevoelens te verwerk. Dit geniet dan voorrang bo die aanspreek van swart mense se agtergesteldheid. Daar kan ook aangevoer word dat die sielkundige gesondheid van die “daders” – hulle gewetenswroegings oor hulle kollektiewe verlede byvoorbeeld – geprioritiseer word bo die probleme of lotgevalle van die “slagoffers”. Of dat “wit skuld” of “wit trane” voorrang geniet bo “swart pyn”. Die suggestie is dat hierdie optrede van wit mense eintlik selfgerig of narsisties is, wat dui op nog ’n ander manier om die titel van Sosibo se artikel te interpreteer, te wete FWP as ’n geval van wit outo-erotisme of selfbehaging.

Derdens, en meer algemeen, kan ’n mens in die bostaande kritiek ook ’n beskuldiging bespeur dat die sielkundige en simboliese verwerking van skuld belangriker geag word as materiële regstelling of herverdeling.

Ten slotte is daar ook ’n suggestie dat hierdie fokus op wit skuld en simboliese regstelling ’n vertragingstaktiek is terwyl die swart bevolking maar moet wag tot wit mense klaar is met hulle “skuldterapie”. As sulks word die dringendheid en erns van SKI-groepe se materiële nood verontagsaam.

 

7. Kom pleeg rasseselfmoord saam met my

Ek beskou nie al hierdie aanklagte as heeltemal van toepassing op die geval van FWP nie. Weer eens is my doel nie soseer om die geldigheid van die aantygings as sulks te bespreek nie, maar om die interne verskille tussen Sosibo se kritiek en Hutton se posisie uit te wys. Insake die tweede en derde kritiese punte, pas Sosibo se verwysing na die bekende verskynsel van wit skuld nie werklik by FWP nie. Wit mense word nie soseer opgeroep om introspeksie te doen of hulleself te bejammer nie, maar hulle word opgeroep tot aksie. Hutton beklemtoon die noodsaak van die vereffening van historiese skuld en stel dit baie duidelik dat wit mense hulle voorregte te danke aan kolonisering en apartheid moet prysgee sodat swart mense skadeloos gestel kan word. Die kunstenaar se oproep tot wit selfskending is gevolglik nie louter simbolies of slegs op ’n sielkundige vlak in terme van sekere houdings of waardes nie. Die werk kan selfs beskou word as ’n kritiek teen wat gesien word as wit mense se misplaaste, eindelose selfbejammering. Hutton hekel byvoorbeeld wit mense se selfvoorstellings as slagoffers van sogenaamde omgekeerde rassisme. Die oorheersende gevoel wat FWP kommunikeer is dus nie selfbejammering nie, maar woede en selfhaat soos uitgedruk deur die kragwoord “f**”. Op basis van die voorafgaande is ook die laaste punt van kritiek enigsins misplaas. Soos reeds gesê, druk FWP ’n gevoel van dringendheid en ongeduld uit om definitief af te reken met witheid en om skadevergoedings deur te voer eerder as dat van swart mense verwag word om te wag.

Ook Sosibo se kritiek op die toe-eiening van swart lyding en protes vind ek nie heeltemal oortuigend nie. Dit sou meer geldig gewees het as Hutton die studentprotesteerder se ander strydkreet, “Being black is s***”, sou gebruik het, aangesien dit dan die toe-eiening van ’n ervaring eie aan swart mense of SKI-groepe sou wees. Die leuse “F*** white people” kan inteendeel gesien word as ’n uitdrukking van ’n regmatige en outentieke gevoel van Hutton as ’n wit persoon, as ’n uitdrukking van Hutton se eie woede en vermoeidheid oor witheid. Dink aan wat Hutton noem in die aanhaling hier bo: die feit dat in ’n onmenslike stelsel soos apartheid, wit mense hulle eie gevoel vir menslikheid voortdurend vir allerhande voorregte en voordele moes verruil. Dit beteken uiteraard nie dat die ervaring en haat van witheid dieselfde is vir ’n wit en ’n swart persoon, in terme van intensiteit of inhoud nie. SKI-groepe moes die ergste van witheid verduur asook aspekte daarvan wat wit mense nooit moes verduur nie.

Op basis van die bostaande wil ek aanvoer dat sekere prominente begrippe binne die radikale dekolonialiseringsdiskoers, soos wit skuld, wit trane of kulturele toe-eiening, te eng en in algemene terme toegepas word deur Sosibo en dat FWP se spesifieke strekking misgekyk word. In wat volg, sal ek hierdie stelling kwalifiseer aan die hand van Sosibo se eerste, en belangrikste, beswaar teen FWP as ’n selfondermynende en teenstrydige daad van solidariteit van ’n wit persoon met die stryd van SKI-bevolkingsgroepe.

Eerstens wil ek aanvoer dat hierdie punt van kritiek ’n belangrike, ooglopende dimensie van FWP verontagsaam, naamlik Hutton se dis-identifisering en breuk met hulle “eie” wit gemeenskap of ras. Ek sal FWP interpreteer as ’n demonstratiewe, openbare vertoning van rasseverraad of rasseselfmoord. Ek verstaan hierdie idees in ooreenstemming met die antikoloniale leier Amílcar Cabral se begrip klasseselfmoord (1966).10 Cabral het dié begrip voorgestel in die konteks van Afrikalande se stryd teen koloniale oorheersing in die 20ste eeu. Hy het betoog dat die kleinburgerlike klas, wat vir hom ’n deurslaggewende rol in die dekoloniseringstryd speel, in die periode na die bevryding klasseselfmoord moes pleeg alvorens daar ’n ware bevryding, asook die vestiging van ’n revolusionêre sosialisme, kon plaasvind. Die sosioloog Tom Meisenhelder (1993) som Cabral se begrip klasseselfmoord soos volg op:

Class suicide by the revolutionary petty-bourgeois leadership amounts to listening to its own revolutionary consciousness and the culture of revolution rather than acting on its immediate material interests as a social class. It must sacrifice its class position, privileges, and power through identification with the working masses.

In die geval van die huidige radikale dekolonialiseringspolitiek van SKI-studente in Suid-Afrika kan mens stel dat wit studente wat hierdie politiek ondersteun voor ’n soortgelyke opgawe staan.

Hier is dit egter ras wat die prominentste kategorie is, alhoewel ras onlosmaaklik met klas verstrengel is, soos die samegestelde begrip wit bevoorregting uitwys. In hierdie geval moet die voorregte, mag of status wat verbonde is met witwees verwerp word.

Dit is dan die eerste aspek van rasseselfmoord.

Die tweede aspek of onderneming in Meisenhelder se spesifisering van Cabral se begrip betref die identifikasie met die onderdruktes. Die eerste aspek, die opoffering van mag en voordele verbonde met jou eie ras, kan beskou word as sowel ’n voorwaarde vir so ’n identifikasie as ’n manier om hierdie tweede handeling uit te voer. Die twee komponente van rasseselfmoord kan ook herken word in die beskrywing van klasseselfmoord deur die kultuurkritikus Arlene Goldbard (2015) as “the act of dying to the privileged class of one’s birth – for instance, by taking a step with no return – and thus sacrificing one’s own privileged position and power in favor of full identification with the oppressed”. In FWP se geval moet ’n mens dan praat van ’n “afsterwing” ten opsigte van ’n mens se eie, bevoorregte ras, wat eweseer beskou kan word as ’n onomkeerbare proses.

Straubhaar (2015) se meer spesifieke bepalings van wat dit beteken om klasseselfmoord te pleeg – met verwysing na die gebruik van hierdie begrip deur Paulo Freire (2016), die Brasiliaanse pedagoog en revolusionêr, wat self gebaseer is op Cabral se begrip, is ook insiggewend:

A commitment to class suicide is a process, not a singular event. It must be re-enjoined again and again, every time a benefit is offered, every time status is implicitly conferred, and every time advantages are provided that have no basis in merit or achievement. Recognizing that privilege is unearned is essential to this process.

Dit is nie die eerste keer dat die idee van rasseselfmoord bepleit word in Suid-Afrika nie. Daar was byvoorbeeld ook hierdie 2016-oproep van ’n wit Afrikanerfilosoof, Terblanche Delport:

Die enigste doel vir wit mense, Afrikaners spesifiek, moet wees om te wag totdat hulle sterf of om selfdood te pleeg, soos die samoerai wat op sy kort swaard val as hy in oneer verval het. Dit is die enigste manier om van wit heerskappy in die land ontslae te raak. (Aangehaal in Steyn en Mailovich 2016)11

Uit verdere uitsprake blyk dit dat Delport die opsie verkies waarby die Afrikanerras uitsterf deur op te hou met voortplant, en nie die opsie van aktiewe rasseselfmoord nie. Hy benadruk hy “geniet sy lewe en lewe lekker” (aangehaal in Steyn en Mailovich 2016).

Daar is egter ’n belangrike verskil tussen hierdie pleidooi vir die uitwissing of uitdowing van die wit ras en die idee van rasseselfmoord soos ek dit aflei op grond van die begrip klasseselfmoord. Delport glo wit heerskappy kan net deur die letterlike, fisieke verdwyning van wit mense uitgeskakel word. Dit sluit die moontlikheid van ’n minder ingrypende en dalk minder tragiese opsie uit waarby wit mense hulle wit “selwe” “vermoor” – of, soos Hutton dit uitdruk, die “witte” in hulleself – sonder om hulleself letterlik hoef dood te maak. ’n Mens kan hier dalk praat van ’n simboliese dood of selfmoord waarby ’n ras afreken met sekere van sy problematiese sienswyses, waardes, gewoontes, praktyke, belange, voorregte, ens.

Teen hierdie tipe rasseselfmoord kan die beswaar geopper word – soos Delport dalk mag doen – dat dit eintlik ’n onmoontlike opgawe is vir wit mense of enige ras, aangesien die problematiese aspekte diepgesetelde sake is waarvan mense nie altyd bewus is nie en wat onlosmaaklik deel van hulle identiteit en subjektiwiteit uitmaak. Dit mag inderdaad tot ’n sekere mate so wees. Tog onthef dit wit mense nie daarvan om hierdie problematiese aspekte so goed as moontlik te probeer uitskakel nie. Dit beteken eerder dat om die witte in jouself te f**, soos Hutton dit uitdruk, ’n nimmereindigende opdrag is en ’n konstante selfwaaksaamheid vereis.

Die opsie van simboliese rasseselfmoord is dalk ook meer lofwaardig as om net die dood af te wag of jouself van kant te maak. Dit verg meer inspanning, asook moed, aangesien jy jouself blootstel aan beledigings, vernederings, verbanning, geweld selfs, van die kant van jou “eie” mense. Hoogs waarskynlik sal slegs ’n minderheid van wit mense hierdie ekstreme vorm van selfkritiek en selfhaat verstaan en ondersteun. Terselfdertyd verbrand jy die brûe met jou eie ras in die wete dat jy ook nie op baie simpatie sal kan reken van die kant van SKI-groepe nie, soos Sosibo se kritiek bevestig. Sosibo (2017) kritiseer in sy artikel byvoorbeeld spesifiek die lofprysinge – hoofsaaklik van wit kommentators, sê hy – van wit persone se betrokkenheid in die studenteproteste, wat hy sien as ’n bevestiging van hardnekkige opvattings van wit meerderwaardigheid.

Ook die vereenselwiging met die andere rassegroepe – die tweede komponent van Cabral se begrip klasseselfmoord – is nie sonder probleme nie. Dit word immers as baie problematies beskou, onaanvaarbaar selfs, vir wit mense om hulleself te identifiseer as “swart”, waarby “swart” kan staan vir die histories agtergestelde en gemarginaliseerde bevolkingsgroepe of sekere houdings of waardes eie aan swart kulture. Alhoewel dit ’n baie komplekse geval is, kan mens dink aan die omstredenheid oor Rachel Doležal in die VSA in 2015.12 Doležal is ’n wit persoon wat in haar latere lewe ’n Afro-Amerikaanse identiteit aangeneem het en haarself as sulks voorgegee het in haar voorkoms en professionele aktiwiteite. Sy was selfs ’n tyd lank die president van die National Association for the Advancement of Colored People. Toe haar afkoms aan die lig gekom het, was daar ’n eenstemmige verontwaardiging onder Afro-Amerikaners. Hulle het aangevoer dat die swart identiteit onlosmaaklik verbonde is aan die diskriminasie wat hulle in lewende lywe ondervind het, sowel as ’n groep in die kollektiewe verlede as in hulle huidige persoonlike, openbare en professionele lewens. Hulle het aangevoer dat ’n wit persoon wat nie hierdie ervarings kon gehad het nie, onmoontlik aanspraak kan maak op ’n swart identiteit. Dit is dus een ding om as ’n wit persoon te identifiseer met die swart kultuur of jou in te span vir die politieke stryd teen diskriminasie en onderdrukking van swartes, ’n ander om te sê jy “is” swart.

Dit dui op belangrike verskille tussen prosesse van klasseselfmoord en rasseselfmoord. Klas kan beskou word as meer van ’n sosiale produk of konstruksie en om hierdie rede iets waarvan ’n mens makliker afstand kan doen as mens se velkleur of ander eienskappe wat normaalweg met ras geassosieer word. Dit maak dat daar grense is aan wit mense se identifikasie met swart mense. Met ander woorde, ’n wit persoon se verwerping van witheid beteken nie dat hy of sy aanvaar sal word as “swart” of ’n “swart” identiteit kan aanneem nie. Dit beteken eerder ’n onbepaalde posisionering tussen die verskeie rasse. Ooreenkomstig die begrip niegenderkonformerende gender kan ’n mens dalk hier praat van nieraskonformerende rasidentiteit, met Hutton se FWP as ’n voorbeeld hiervan.

 

8. “Slegs” simbolies

Hierdie interpretasie van FWP in terme van rasseselfmoord is nie bedoel om Hutton as ’n held óf as ’n slagoffer te identifiseer nie. Enersyds kan mens, vanuit ’n radikaal-dekolonialiserende perspektief, wonder wat meer edel en dapper is vir ’n wit persoon as om rasseverraad te pleeg in solidariteit met die stryd van die “rassige Ander”, met al die risiko’s daaraan verbonde. Andersyds is daar Sosibo se kritiek dat Hutton nie ver genoeg gaan in die versaking van witheid en wit voorregte nie. In ooreenstemming met Straubhaar (2015) se punt oor klasseselfmoord as ’n nimmereindigende proses kan dit benadruk word dat wit mense voortdurend waaksaam moet bly vir voordele of aansien wat aan hulle toegeken word, hoe gering ook al, op grond van hul velkleur en nie hulle eie verdienste nie, en dit af te wys. Hutton sou verwyt kon word dat hulle voortgegaan het met FWP nieteenstaande hulle bewustheid van hierdie prosesse, en verder, soos Sosibo aanvoer, dat Hutton sekere voordele daaruit getrek het soos media-aandag wat Hutton se ontluikende loopbaan sekerlik ’n hupstoot gegee het. Dit is een van die redes vir Sosibo (2017) se fel beoordeling van FWP se tipe wit bondgenootskap as “a ruse”, ’n lis, ’n slim set om ’n teëstander te bedrieg, al is daar nie baie eksplisiet of uitgebreid aangedui in watter opsig dit spesifiek verstaan moet word nie. Ek verstaan die aantyging soos volg: dat FWP se ekstreme, demonstratiewe belydenis van wit selfhaat en solidariteit met die swartbevrydingstryd slegs ’n rookskerm is vir die aanwending, behoud, en selfs verdere uitbou van sekere wit voorregte.

Alhoewel die woord lis ’n doelbewuste misleiding of oëverblindery suggereer, is dit nie noodwendig so in hierdie geval nie, en dit wil nie voorkom asof Sosibo aan Hutton se goeie bedoelings twyfel nie. Die punt is dalk dat daar onafhanklik van die subjektiewe bedoelings objektiewe, strukturele meganismes werksaam is wat ’n wit kunstenaar se bedoelings fnuik of verdraai. In FWP se geval lei dit daartoe dat ’n wit kunstenaar se poging om hulle eie bevoorregting te problematiseer en verwerp, die aweregse effek het dat dit hulle artistieke kapitaal en loopbaanmoontlikhede alleen maar vergroot.

My eerste beswaar teen Sosibo se kritiek is dat hy die voordele van FWP vir Hutton – as ’n loopbaanmaneuver, ’n meestersgraadverhandeling, ens. – oorskat. Dit lyk asof hy slegs voordele sien vir Hutton, wat pas in sy redenasie dat FWP wit bevoorregting benut en konsolideer terwyl dit oënskynlik teengestaan word. Op grond van my interpretasie van FWP as ’n opvoering van rasseselfmoord bo en behalwe ’n vorm van wit bondgenootskap, moet die balansstaat van die kunswerk in terme van voordele en nadele vir Hutton persoonlik en as kunstenaar met meer omsigtigheid benader word. Sosibo laat na om die negatiewe gevolge vir Hutton ook in ag te neem, soos om deur Hutton se “eie” gemeenskap verstoot en verkleineer te word, of om as ’n paria behandel te word en saam te leef met die konstante moontlikheid van verbale en fisieke aanranding. Hierdie gevolge blyk duidelik uit die genoemde wit groeperings se negatiewe reaksies teen die werk. As sulks stel mense soos Hutton met hulle kunsaksies letterlik hulle eie persoon en bestaan in gevaar.

Afgesien van ’n eensydige skatting van die voordele van FWP vir Hutton kan ook, tweedens, kapsie gemaak word teen ’n implisiete aanname van Sosibo se eerste punt van kritiek. Dit betref die suggestie dat die kunswerk slegs ’n simboliese of polemiese gebaar is, ’n teatrale verklaring van wit selfhaat en solidariteit met swart bevryding wat die dieper, meer fundamentele prosesse van bevoorregting onaangeroer laat. SKI-mense sou dan uiteindelik niks of baie min daarby baat. Dit berus egter op ’n te eenvoudige teenstelling tussen simboliese en materiële handelinge, waarby laasgenoemde as belangriker beskou word. Uit Sosibo se kritiek kan mens aflei hy vind simboliese dade van selfkritiek van wit mense onbeduidend in soverre daar nie ’n daadwerklike, materiële vergoeding plaasvind nie. Ons het reeds gesien hy beskou eersgenoemde as ’n manipulerende maneuver om die laasgenoemde eindeloos uit te stel.

Sulke beoordeling onderskat egter die belang van simboliese gebare binne die huidige dekolonialiseringstryd in Suid-Afrika, by name in die onlangse studenteproteste. Soos reeds aangedui, het hierdie proteste begin met ’n veldtog teen openbare simbole van kolonialisme, soos die Rhodes-standbeeld by die Universiteit van Kaapstad. In die laaste geval is dit gedoen deur middel van ’n simboliese gebaar. Op 9 Maart 2015 het die studenteaktivis Chumani Maxwele menslike ontlasting in ’n draagbare toilet – die soort wat orals deur armes in plakkerskampe gebruik word – oor die beeld uitgegooi. Ek het die verskillende betekenisse en konnotasies van hierdie aksie, asook die belangrike rol van ’n radikale ikonoklastiese kultuurpolitiek binne die dekolonialiseringstryd van studente, elders uitgebreid bespreek (2017, 2019a, 2020a). Hierdie politiek is uiteraard nie slegs simbolies nie, aangesien die vandalisering en verwydering van koloniale en apartheidsmonumente – as ’n visuele bron van vervreemding en selfs belediging vir SKI-groepe – ook ’n materiële ingryping is wat tot die fisiese dekolonialisering van die openbare ruimte bydra.

Desnieteenstaande sou nog steeds kon aangevoer word – soos baie kritici en kommentators gedoen het – dat hierdie gevegte “louter” simboliese gevegte is, ’n oppervlakkige politiek van die spektakel, wat nie die fundamentele kwessies van die hoër onderwys aanspreek nie. Gevolglik is die latere fokus van die studenteproteste op die vrye toegang tot hoër onderwys, kurrikulumtransformasie en die demografiese verteenwoordiging van die akademiese personeel verwelkom en beskou as ’n volwassewording van die studentebeweging. Daar kan aangevoer word dat Sosibo die simboliese komponent van die dekolonialiserende aktivisme eweseer geringgeskat het, gesien sy nadruk op daadwerklike, materiële regstelling.

Ondanks hierdie oorgang na ekonomiese, pedagogiese en institusionele kwessies moet benadruk word dat die kulturele, simboliese politiek nie slegs ’n byvertoning van die studenteproteste is nie, maar ’n sentrale rol daarbinne speel. Hierdie rol kan gespesifiseer word deur ’n argument van Fredric Jameson, soos dit genoem word deur Žižek (2006:380–1) in ’n bespreking van die skynbare onvermybaarheid van buitensporige, “suiwere” geweld in die dekolonialiseringstryd. Jameson betoog dat hoewel dergelike geweld dan wel geen direkte gebruiks- of strategiese waarde mag hê nie, dit nietemin belangrik is as “a sign of the authenticity of the revolutionary process, of the fact that this process is actually disturbing the existing relations” (Žižek 2006:381). Die skouspelagtige geweld teen kulturele ikone van kolonialisme of apartheid binne die studenteproteste kan dan verstaan word as ’n gelyksoortige “teken” of boodskap van radikalisme, sowel aan die gevestigde universiteitsorde as aan die studente self. Dit kommunikeer dat ’n punt bereik is waarin SKI-studente “gatvol” is en dit hierdie keer nie sake soos gewoonlik kan wees nie, maar dat slegs ingrypende, strukturele veranderings aanvaar sal word. Dit kan verklaar hoekom simboliese geweld deurslaggewend was nie net om die proteste te ontsteek nie, maar ook later om hulle aan die gang te hou. Dink aan die gereelde opflikkering van die kultuurstryd, soos die berugte verbranding van kunswerke aan die Universiteit van Kaapstad in Februarie 2016, nog so ’n skouspelagtige simboliese gebaar, iets minder as ’n jaar na Maxwele se protesaksie. Meer in die algemeen dui die materiële, reële effekte van simboliese politiek op die fundamentele “vervlegtheid” van simboliese en materiële handelinge, op die onmoontlikheid om hulle op simplistiese wyse te (onder)skei of teenoor mekaar te stel.

Maar selfs al sou swart dekolonialiseringsaktiviste saamstem met die belang van simboliese handelinge binne die dekolonialiseringstryd, kan sulke handelinge nog steeds verwerp word in die geval van wit persone. Meer bepaald kan teen Hutton aangevoer word dat eerder as om ’n ekstreem afwysende houding in te neem ten opsigte van die eie, wit ras deur middel van ’n vertoonkunsaksie, Hutton die wit voorregte moet prysgee sonder om ’n groot ophef daarvan te maak. FWP kan dan verwyt word dat dit slegs grootpratery is en die kunstenaar kan aangemaan word om die daad by die woord te voeg.

Weer eens moet egter, vanuit ’n radikale dekolonialiseringsperspektief, die kardinale belang van ’n openbare demonstrasie van hierdie aggressiewe, meedoënlose vorm van wit selfkritiek benadruk word. Mens kan saamstem dat rasseselfmoord soos uitgebeeld deur Hutton, ’n paradoksale gebeure sou wees, aangesien ’n mate van selfuitwissing gepropageer word deur middel van die teenoorgestelde handeling van die teatrale sigbaar maak van die voorneme daartoe. Aan die ander kant moet die daad van rasseselfmoord gedramatiseer word om ’n impak te kan maak op die kollektiewe psige van wit en swart gemeenskappe. Slegs so kan FWP ingryp in debatte oor wit mense se historiese en voortdurende aandadigheid in kolonisering en apartheid, asook oor die verskillende maniere waarop hulle daarmee omgaan, wat strek van ontkenning, selfbejammering, skuldbelydenis en onthouding uit die openbare lewe tot, soos ek geargumenteer het in die geval van FWP, rasseselfmoord. As sulks onderskat Sosibo die belang van simboliese belydenisse van selfkritiek en selfhaat deur wit mense. Daar kan ook gestel word dat die simboliese, performatiewe karakter van kuns as sodanig ontken word deur sogenaamde werklike, materiële effekte van kunswerke te oorbeklemtoon.

 

9. Hoe mag wit kunstenaars dan wél ’n bydrae tot dekolonialisering lewer?

Gestel nou ons aanvaar Sosibo se kritiek teen die tipe bondgenootskap wat FWP volgens hom beliggaam in ooreenstemming met my immanente benadering. Die vraag is dan hoe dan wel van wit, selfkritiese kunstenaars wat ’n bydrae tot die stryd vir ’n gedekolonialiseerde Suid-Afrika wil lewer, verwag word om op te tree. En verder, watse tipe verbond is moontlik of wenslik tussen wit aktivistiese kunstenaars en SKI-groepe?

Sosibo se boodskap aan wit selfkritiese kunstenaars kom daarop neer dat eerder as om witheid op simboliese wyse te versaak of ’n diskursiewe kritiek daarvan uit te spreek – en in die proses nog steeds aan hulle wit voorregte vas te klou – die wit voorregte sonder meer prysgegee moet word. Hutton se kunswerk mag dan wel vir baie wittes te ver gaan in die oproep tot selfveragting, maar vir Sosibo gaan dit nie naastenby ver genoeg nie. Dit lyk asof niks minder as om onmiddellik alle onregmatig verworwe hulpbronne af te staan, vir hom aanvaarbaar is nie. Prakties beteken dit dat wit kunstenaars alles wat hulle in staat stel om ’n vooraanstaande plek in die kunswêreld in te neem as ’n regstreekse of onregstreekse gevolg van hulle witheid moet versaak, want dit gee hulle ’n oneerlike voordeel bo swart, histories onderdrukte kunstenaars en lei die aandag af van hulle stryd. ’n Komplikasie hier is dat die belangrikste voorregte of hulpbronne van wit kunstenaars niematerieel is, byvoorbeeld sekere vaardighede of ’n reputasie binne die kunswêreld wat nie sommer prysgegee kan word nie.

Die vraag bly dus watter moontlike optrede nog vir wit kunstenaars bestaan. Een moontlikheid is dat hulle terugstaan en ophou om op te tree op openbare verhoë waar hulle moontlik die plek en hulpbronne van SKI-kunstenaars opneem en in die pad staan van hierdie kunstenaars se eie stryd teen hulle agtergesteldheid. Hierdie opvatting is in ooreenstemming met ’n populêre leuse binne die swartbevrydingsbeweging dat wit mense, of wit kunstenaars in hierdie geval, “te veel plek inneem” en byvoorbeeld verban moet word van byeenkomste (sien Du Toit, Haffajee en Mabena 2017). In die geval van FWP, as deels ’n vertoonkunswerk, kan hierdie leuse letterlik opgeneem word in die lig van Hutton se fisieke aanwesigheid in die galeryruimte. Dit is dan nog ’n manier om die titel van Hutton se kunsaksie te interpreteer, naamlik dat wit kunstenaars basies gevra word om te “f*** off” en plek te maak vir kunstenaars uit SKI-groepe. In hierdie konteks kan die swart studentprotesteerder se slagkrete soos volg aangepas word: “F*** white artists” en hul wit voorregte wat maak dat “om ’n swart kunstenaar te wees k** is”.

Alternatiewelik sou mens kon aflei dat wit kunstenaars hulleself gerus mag kasty of hulle solidariteit mag betuig met die dekolonialiseringstryd, maar dat hulle dit dan uitsluitlik op “wit” platforms moet doen. Op dié manier neem hulle nie die plek in van swart kunstenaars op “niewit” platforms nie. Hoe presies onderskei gaan word tussen ’n “wit” en ’n “niewit” platform is egter nie duidelik nie. Moet ’n nasionale museum soos byvoorbeeld die Iziko-galery, waar FWP uitgestal was, beskou word as ’n voorbeeld van ’n niewit kunsplatform? Dit kan ook aangevoer word dat hierdie pogings tot (onder)skeiding feitelik sou lei tot ’n balkanisering van die kunswêreld of ’n vorm van artistieke apartheid, waarby wit en SKI-kunstenaars hulle onderskeie “bevrydingswerk” in hulle eie, rasspesifieke enklawe en uitsluitlik gerig op hulle “eie” mense, verrig.

’n Derde gevolgtrekking op basis van Sosibo se kritiek sou kon wees dat wit kunstenaars ’n bloot fasiliterende rol moet speel. Hulle moet met ander woorde hulle voorregte en hulpbronne aanwend om swart kunstenaars te ondersteun in hulle ontwikkeling en om vir hulle kanse te skep om hulle werk uit te stal, eerder as om self werk te maak en uit te stal. Dit is uiteraard geen kleinigheid om van wit kunstenaars, of énige kunstenaars, te vra om op te hou om kuns te maak nie. Jy vra dan eintlik vir wit kunstenaars om behalwe rasseselfmoord ook artistieke selfmoord te pleeg. Verder kan mens wonder of hierdie fasiliterende werk nie eweseer gekritiseer sou word as ’n geval van wittes wat hul bevoorregting gebruik om hulle bevoorregting te ontmantel, soos Sosibo (2017) dit stel nie. Die kritiek sal dalk ook hier wees dat wit kunstenaars hulle voorregte en hulpbronne eerder sonder meer moet prysgee.

Op basis van die voorgaande sou dan nog ’n ander betekenis aan FWP se slagkreet gegee kon word, naamlik dat as ’n wit kunstenaar wat selfkrities is oor die eie bevoorregting en SKI-groepe wil ondersteun in hulle stryd teen hulle agterstelling, so ’n wit kunstenaar basies “gef**” is. Neem byvoorbeeld die heersende opvatting onder swartbevrydingsbewegings dat wit mense, pleks daarvan om te wil deel wees van hierdie bewegings en ’n aktiewe rol daarbinne te wil vervul, hulleself eerder moet rig op hulle eie wit gemeenskappe en rassisme daar moet beveg.13 Dit is te verstane, en hierdie tipe antirassismewerk kan selfs beskou word as iets wat meer moed vereis, aangesien jy jou “eie” mense moet aanvat. Maar is dit nie presies wat Hutton onderneem met FWP nie? Desondanks word die werk op ’n ander vlak as ontoereikend of selfs ongeldig verklaar, wat dit laat lyk asof die doelpale steeds verskuif word met betrekking tot wit kunstenaars se bydrae tot die swartbevrydingstryd.

Dit kan daartoe lei dat antirassistiese, wit kunstenaars voel hulle verkeer in ’n nagenoeg onmoontlike posisie, ’n kan-nie-wen-nie-dilemma, waarin hulle gedoem is maak nie saak wat hulle doen nie. Dit kan daartoe lei dat dit ’n veiliger opsie word vir wit kunstenaars om heeltemal afsydig te bly ten opsigte van die dekolonialiseringstryd of selfs om enige politieke of sosiaal betrokke kunspraktyk af te sweer. Dit kan daartoe lei dat hulle hulself terugtrek in hulle eie wit enklawe en slegs veronderstelde suiwer artistieke en apolitiese werk maak. In hierdie scenario sou wit kunstenaars waarskynlik eweseer blameer word op grond van die oortuiging dat om jouself afsydig te hou en niks te doen nie ewe erg is as om aandadig te wees. In hierdie sin is wit selfkritiese kunstenaars vasgevang tussen hamer en aambeeld. Mens sou selfs ’n variasie op Steve Biko (2002) se bekende slagspreuk “Black man you’re on your own” kon maak en sê wit, selfkritiese, dekolonialiserende kunstenaars kry eweseer die boodskap dat hulle “op hulle eie” is.

 

10. Van wit bevoorregting na alternatiewe genderposisionerings en terug

Benewens die problematiek van wit bevoorregting – of, meer algemeen, ras en klas – is daar ook ’n genderkomponent wat ingesluit moet word in die interpretasie en beoordeling van FWP in die konteks van die huidige dekolonialiseringstryd van SKI-studente. Terwyl die genderaspek ’n sentrale plek inneem in Hutton se kunspraktyk – wat omskryf kan word as ’n vorm van queervertoonkunsaktivisme – lyk dit of hierdie aspek afwesig is in FWP. Dit is ook onderbeklemtoon in kommentare ten gunste van die kritiek van witheid en die dekolonialiseringspolitiek. Ek sou egter aanvoer dat dit nietemin ’n belangrike rol vervul en van kritieke belang is vir die beoordeling van die werk se posisie ten opsigte van die huidige d dekolonialiseringsbewegings en studenteproteste.

In sy kritiese kommentaar erken Sosibo die aanwesigheid en belang van gender in FWP. Dit is selfs een van die min aspekte waaroor hy positief is. Sosibo sê dat FWP se kritiek teen witheid eweveel te danke is aan die eksplisiete boodskap daarvan as aan Hutton se niebinêre gender, “body image” en “outward appearance”. Alhoewel FWP sekerlik as ’n baie konseptuele werk beskou kan word waarin die diskursiewe dimensie oorheers – dink aan die alomteenwoordigheid van die een slagspreuk – is daar tewens ’n sterk liggaamlike of, soos dit ook genoem word, ’n somaestetiese aspek (Shusterman 2000). Dit verwys na die wyse waarop kuns ons op ’n lyflike vlak aanspreek en sekere gevoelens teweegbring. Vir Sosibo lei Hutton se alternatiewe, niegenderkonformerende posisionering tot ’n bevraagtekening en ondermyning van die wit, patriargale heteronormatiwiteit en ideale van liggaamlike skoonheid of, soos hy dit uitdruk, “the constructed aesthetics of white beauty”. Hy beskou hierdie norme en ideale as ’n belangrike steunpilaar van witheid en as sulks ’n belangrike gevegsfront van die dekolonialiseringstryd. Hutton se kunsaksie bevind sigself dus op die snypunt van gender en ras en bewys dat genderkwessies ’n belangrike onderdeel van rassekwessies uitmaak. Hierdie vervlegting van ras en gender is bevestig deur die manier waarop wit regses Hutton gekritiseer het op basis van sogenaamde liggaamsbeskaming.

Sosibo se punt het egter implikasies bo en behalwe die kritiek teen witheid. Mens kan redeneer dat Hutton se genderposisionering eweseer genderstereotipes of liggaamsideale van ander, niewit gemeenskappe in Suid-Afrika uitdaag. Hierdie redenasie is gepas binne die konteks en tematiek van FWP, naamlik die onlangse studenteproteste en die dekolonialiseringstryd. Binne die sogenaamde fallist-bewegings was daar herhaaldelike klagtes en meningsverskille oor genderkwessies, met name oor ’n gebrek aan gendergelykheid en die erkenning van alternatiewe genders. Meer in die algemeen was daar ’n twis oor die ondergeskikte belang wat aan hierdie tipe kwessies geheg word in teenstelling met kwessies van ras en dekolonialisering.

Dink byvoorbeeld aan ’n protesaksie van Trans Collective, ’n groep transgenderaktiviste, na aanleiding van ’n uitstalling oor #RhodesMustFall, getiteld “Echoing voices from within”, by die Universiteit van Kaapstad in Maart 2016 (sien Petersen 2016 en Hendricks 2016).14 Een van die geteikende werke was ’n ikoniese foto van die reeds genoemde aksie van Maxwele waarin hy die Rhodes-standbeeld met menslike ontlasting besoedel, wat van hom een van die eerste leiersfigure binne die studenteprotesbeweging gemaak het. Soos reeds aangevoer, het hierdie demonstratiewe aksie orals in die land studenteproteste ontketen. As sulks kon die aktiviste van Trans Collective nie ’n beter doelwit gekies het vir hulle protesaksie nie. Met hulle liggame ontbloot en rooi geverf, het hulle onder andere die woord rapist met rooi verf op die foto van Maxwele gekrabbel. Die kollektief het hiermee die gebrek aan erkenning van die rol van transgender, niegenderkonformerende en interseksstudente in die studenteprotesbewegings, en #RhodesMustFall spesifiek, aangekla.15

’n Ander toepaslike voorbeeld is ’n openbare kunsaksie, eweneens in die konteks van die #RhodesMustFall-proteste by die Universiteit van Kaapstad, van Sethembile Msezane, wat destyds, soos Hutton, ’n student aan hierdie universiteit was. Hierdie werk, getiteld Chapangu – The day Rhodes fell, bestaan uit ’n skouspelagtige vertoonkunsuitvoering tydens die verwydering van die Rhodes-standbeeld op 9 April 2015. ’n Foto van die werk was ingesluit in dieselfde “Art of disruptions”-skou in die Iziko-galery waar FWP ook uitgestal is. Die basiese konsep van die werk was om tydens die verwydering van die Rhodes-standbeeld die simboliese bevryding van die Zimbabwe Bird-standbeeld uit te beeld wat in Rhodes se Groote Schuur-landgoed in Kaapstad uitgestal is. Daar is ’n paar van hierdie tipe beelde en hulle het ’n belangrike plek vervul in die Sjona-volke se kultuur en rituele. Hulle is almal deur koloniseerders uit die ou stad van Great Zimbabwe geroof.16 Dit is ook belangrik om te noem dat Chapangu aansluit by van Msezane se vroeëre vertoonkunswerke wat die afwesigheid van veral swart vroue in Suid-Afrika se openbare herdenkingspraktyke aankla. As sulks is ’n ander belangrike doelwit van Chapangu die problematiese, voortdurende herdenking van Rhodes as ’n magtige, wit man en kolonis-imperialis aan een van Suid-Afrika se vooraanstaande universiteite.

Deur sy poëtiese, elegante, gestileerde en verbeeldingryke kwaliteite kan Chapangu ook gelees word as ’n teëwig teen die oorwegend manlike, testosteroon-aangedrewe vorme van protes van die #RhodesMustFall-beweging (sien Pauwels 2019a). As sulks resoneer die werk met die herhaaldelike klagtes en onmin binne die studenteprotesbewegings oor ’n gebrek aan erkenning van sekere groepe op grond van gender, soos vroue en die LGBTQIA+-gemeenskap. Daar was verskillende inisiatiewe binne die studenteprotesbewegings om dit te keer, soos die #PatriarchyMustFall-veldtog. As Msezane haar vertoonkunsaksie “a form of liberation” noem (Corrigall 2016), dan kan dit dus in ’n tweeledige opsig verstaan word as ’n bevryding van die juk van sowel kolonialisme as patriargie en heteronormatiwiteit. Soos sy dit self uitdruk: “[W]itnessing this historic event while temporarily placing a black female body before and after the removal of the Rhodes statue was […] a triumphant moment” (in Pinto 2015).

Dit beteken nie dat kritici van die marginalisering van genderkwessies binne die dekolonialiserende studentebewegings hulleself hierbuite of daarteen posisioneer nie, of hulle doelstellings nie ondersteun nie. Dit beteken ook nie dat hierdie bewegings nie ook self ideale van gendergelykheid en diversiteit of interseksionaliteit nastrewe nie. Dit is eerder ’n geval van meningsverskille tussen sekere faksies binne ’n baie diverse en dinamiese sosiale beweging oor die belangrikheid en prioriteit van hierdie ideale. In ooreenstemming met hierdie interne teenstand wil ek aanvoer dat FWP eweseer as ’n tussenkoms in die stryd oor gender binne huidige swartbevrydingsbewegings kan beskou word. Die inagname van hierdie genderdimensie voeg nog ’n verdere betekenislaag en kompleksiteit aan die werk toe.

Terwyl gender as ’n tema en problematiek in Hutton se werk eksplisiet aanwesig is, mag dit dalk in die geval van FWP nie meteens duidelik wees nie. Daar kan selfs aangevoer word dat deur hulle liggaam volledig te klee in ’n uniform wat bestaan uit ’n tipiese strydkreet van huidige studenteprotesteerders, Hutton hulle spesifieke, queerliggaam en gender kamoefleer. Of ten minste dat die uitdrukking hiervan ondergeskik gemaak word aan die dekolonialiseringstryd en die geveg teen wit oppermagtigheid. In ooreenstemming met die toe-eiening van die slagkreet “F*** white people” sou dit beskou kon word as ’n verdere vorm van selfgeweldpleging, ’n onderwerping van die liggaam aan die diskursiewe boodskap van die rasse-Ander. Daar kan selfs aangevoer word dat Hutton die marginalisering van alternatiewe genderposisies binne dekolonialiseringsbewegings op dramatiese wyse uitbeeld deur hulleself, as ’n niebinêre persoon, tot ’n louter pion in die stryd teen wit oppermagtigheid te herlei.

Hierdie onderdrukking is egter nie totaal nie. Die wyse waarop Hutton se liggaam oorgetrek is met ’n homogene patroon het juis die snaakse, paradoksale uitwerking dat dit die spesifieke eienskappe daarvan uitbring, soos in ’n kunswerk van Christo, waar die basiese eienskappe van ’n objek meer intens ervaar word as dit met ’n egalige materiaal toegedraai is. Die genderdimensie word so, juis in die ontkenning daarvan, aanwesig gestel. Verder is daar ’n element in FWP wat eksplisiet verwys na Hutton se queer- artistieke persona, naamlik, hulle goudgeverfde stewels. Goud vervul ’n baie belangrike simboliese betekenis in Hutton se vertoonkunspraktyk. Hutton verwys byvoorbeeld na hulleself as GoldenDean en tree baie keer naak op met ’n goudgeverfde liggaam. Goud se konnotasie van kosbaarheid word gebruik om op ’n simboliese wyse waarde toe te voeg aan ’n gemarginaliseerde gender. Dit suggereer ook ’n estetiek van glam, glitter en bling, wat ’n belangrike onderdeel van speelse genderidentiteite vorm.

As ’n minimale verwysing na Hutton se queer-kunsaktivisme en -persona skep die goue stewels ’n komplekse spel van betekenisse. Dit is duidelik ’n eiesinnige en oordadige element in FWP as dit opgevat word as bloot ’n propagandistiese kunswerk in die stryd teen witheid. Mens kan wonder hoekom Hutton nie ook die stewels oorgetrek het met Mthunzi se slagkreet nie, soos met uitrusting en die stoel nie. Moontlik wou Hutton hulle spesifieke genderidentiteit nie heeltemal wegsyfer in diens van die dekolonialiseringspolitiek nie, of aandui dat hulle nie heeltemal daartoe gereduseer kan of wil word nie.

Op grond hiervan kan nog ’n ander konnotasie of boodskap van FWP onderskei word, te wete dat persone met alternatiewe gendervoorkeure soos Hutton gef** is of word binne die huidige dekolonialiseringsbewegings. Bo en behalwe die reeds genoemde interne spanninge van die werk skep dit dan nog ’n spanning, in hierdie geval tussen die werk se eksplisiete oproep tot wit selfkritiek as ’n daad van solidariteit met swart dekolonialiseringsbewegings enersyds, en andersyds as ’n implisiete kritiek op die gebrek aan erkenning vir die bydrae van alternatiewe genders binne hierdie bewegings.

 

11. Na ’n politiek van meervoudige, vervlegte vorme van marginalisering toe?

In sy fokus op kwessies van wit bevoordeling en swart onderdrukking gee Sosibo onvoldoende rekenskap van hierdie genderkomponent van FWP en dit speel ook nouliks ’n rol in sy beoordeling van die werk. In soverre hy dit wél doen, byvoorbeeld in sy opmerkings oor die verstrengeling van witheid en gender, vind dit op ’n selektiewe manier plaas. Hy neem dit in ag met betrekking tot FWP se selfkritiek van witheid, maar nie met betrekking tot die konflik binne huidige swart dekolonialiseringsbewegings oor gender en interseksionaliteit nie. Die implikasies van die skuif in die interpretasie en kontekstualisering van FWP van kwessies van ras en kolonialiteit na kwessies van gender en die kruisinge en oorvleuelinge tussen die twee, het egter ook belangrike gevolge vir Sosibo se sentrale kritiek teen FWP as ’n daad van solidariteit met swart dekolonialiseringsbewegings. Dit maak dat die kunswerk nie bloot as ’n vorm van “wit bondgenootskap” verstaan en beoordeel kan word nie. ’n Ander vorm van bondgenootskap op die vlak van die stryd vir die erkenning van alternatiewe genders en die belangrikheid van genderongelykhede binne swart dekolonialiseringsbewegings moet ook in ag geneem word. FWP kan daarom gekenmerk word as ’n vorm van dekolonialiserende queerkunsaktivisme.

In FWP is daar dus minstens twee bondgenootskappe tegelyk aanwesig – die een op vlak van ras (maar onlosmaaklik verbonde aan klas), die ander op die vlak van gender. Hierdie bondgenootskappe moet beskou word as oorvleuelend en ineengestrengel en kan gevolglik nie onafhanklik van mekaar beoordeel word nie. Ter wille van die implisiete kritiek teen patriargie en heteronormatiwiteit voer ek aan dat Hutton se aksie wel deeglik ’n geregverdigde plek inneem binne die huidige dekolonialiseringspolitiek en ’n belangrike, progressiewe bydrae daartoe lewer. Meer nog, in hierdie opsig oorstyg en bevraagteken FWP die heersende perspektief van Sosibo se kritiek. Dit gaan, meer bepaald, oor die enkelvoudige gerigtheid op kwessies van wit bevoorregting asook ’n implisiete vooronderstelling dat die teruggee van gesteelde hulpbronne die enigste oplossing vir alle swart pyn en lyding is.

Hierdie aanname dui op ’n sekere prioritisering van die verskillende probleme van SKI-groepe wat gangbaar is binne die radikale dekolonialiseringspolitiek. ’n Voorbeeld hiervan is die posisie insake genderkwessies van Andile Mngxitama, ’n radikaal-linkse politieke aktivis en leier van die Black First Land First- (BLF-) party wat ’n toonaangewende asook kontroversiële figuur binne die huidige swartbevrydingspolitiek in Suid-Afrika is. In 2013 het Mngxitama ’n kommentaarstuk geskryf na aanleiding van destydse proteste van LGBTI-bewegings in Zimbabwe teen die uitgesproke homofobie van die regerende ZANU-PF Party en sy toenmalige leier en president van die land, Robert Mugabe. Laasgenoemde was daarvoor berug dat hy homoseksualiteit as on-Afrikaïes (un-African) bestempel het. Mngxitama (2013) het basies aangevoer dat LGBTI-groepe – wat aan erge geweld onderwerp is – hulle griewe ondergeskik moet maak aan die verregaande dekolonialiseringspolitiek van ZANU-PF. Hierdie politiek was gebaseer op die onteiening van wit boere se grond en die herverdeling daarvan aan die swart bevolking (ten minste dit was die offisiële weergawe). Mngxitama beskou genderkwessies as private, persoonlike aangeleenthede terwyl die herverdeling van grond as ’n kollektiewe en gevolglik belangriker kwessie beskou word. Mngxitama voer aan dat die armoedige lewensomstandighede van die oorgrote meerderheid swart Zimbabwiërs as gevolg van grondgryping tydens kolonisering die belangrikste oorsaak van die geweld teen LGBTI-groepe is. Gevolglik betoog hy dat LGBTI-aktiviste eerstens die grondkwessie moet aanspreek en pas daarna ZANU-PF se homofobiese kultuur. As hulle dit nie doen nie, sê Mngxitama, dan ondermyn hulle feitelik die dekolonialiseringsproses, aangesien hulle protes deur Westerse, “neo-imperialistiese” magte aangewend kan word as verweer om hierdie proses te diskrediteer.

Die redenasie is met ander woorde dat indien die kwessie van grondherverdeling eers uitgesorteer word, die ander probleme, soos genderongelykheid en -geweld, daarna makliker opgelos sal kan word. Ek beweer nie dat Sosibo al Mngxitama se sienings noodsaaklik onderskryf nie. Soos aangedui, beaam hy die ondermynende krag van Hutton se alternatiewe genderposisionering en liggaamspolitiek, al is dit dan slegs ten opsigte van die wit patriargale en heteronormatiewe orde. Ek het egter aangevoer dat Sosibo die teruggee van wit voorregte en gesteelde grond as die bepalende maatstaf gebruik vir die beoordeling van FWP as ’n daad van solidariteit met die dekolonialiseringstryd. Ek het ook aangevoer dat dit lei tot die verontagsaming en onderwaardering van FWP as ’n simboliese vorm van rasseselfmoord. Ek wil nou verder aanvoer dat dit ook lei tot ’n belangrike leemte in Sosibo se kritiese diskoers insake die aanhoudende meningsverskille binne die dekolonialiseringsbewegings oor gender en tot die miskenning van FWP as ’n belangrike ingryping in hierdie stryd. Dit is duidelik dat Sosibo se kritiese beoordeling van FWP té simplisties en eendimensioneel is in sy nagenoeg uitsluitlike fokus op die problematiek van onregmatige wit bevoorregting.

Ek wil aanvoer dat ’n meer komplekse en genuanseerde benadering noodsaaklik is om die verskillende verstrengelde dimensies en kwessies in FWP en ander gevalle van dekolonialiserende genderkunsaktivisme in ag te neem. So ’n multidimensionele en interseksionele aanslag is noodsaaklik om op ’n ander manier na te dink oor bondgenootskappe tussen kunstenaars en/of aktiviste van verskillende rasse met betrekking tot die belangrike uitdagings van dekolonialisering en die erkenning van genderverskeidenheid. Ek ontleen die beginsels van so ’n alternatiewe benadering aan ’n opvallende verskuiwing in die werk van Kobena Mercer, ’n Britse kultuurteoretikus en ’n invloedryke stem in die debat oor ras, gender en klas binne die postkoloniale kultuurpolitiek.

Hierdie verskuiwing het betrekking op Mercer se interpretasies van die opspraakwekkende, homoërotiese naakfoto’s van Afro-Amerikaanse mans deur die Amerikaanse kunsfotograaf Robert Mapplethorpe in die 1970’s en 1980’s. Mercer se aanvanklike lesing (1986) was baie krities en oorwegend uit die oogpunt van ras. Mapplethorpe is daarvan beskuldig dat hy sy magsposisie as ’n wit persoon misbruik in sy fotografiese uitbeeldings van die swart manlike modelle en hulle geweld aandoen deur hulle te objektiveer, fetisjiseer, seksualiseer, estetiseer, romantiseer, ens. Hierdie tipe besware is ook kenmerkend vir die diskoers van swart Suid-Afrikaanse kuns-en-kultuur-kritici. ’n Onlangse voorbeeld is die ophef in 2018 oor die rolprent Inxeba (Die wond). Die wit regisseur, John Trengove, is deur swart resensente gekritiseer vir sy uitbeelding van die manlike inisiasierites van Xhosa-gemeenskappe wat die onderwerp van die film is. Trengove is onder andere beskuldig van voyeurisme, eksotisme en fassinasie met swart, manlike seksualiteit en kultuur, asook dat hy sy magsposisie as ’n wit persoon gebruik het om dit te kon doen (Ntuli 2018; Xaso en Pikoli 2017).17 Soortgelyke kritiek kan ook gevind word in Sosibo se resensie van FWP, naamlik dat Hutton die pyn en strydkrete van swart mense estetiseer, fetisjiseer en objektiveer vanuit ’n asimmetriese magsposisie deur ras bepaal.

’n Paar jaar later het Mercer (1991:193) Mapplethorpe se foto’s egter op ’n meer genuanseerde en positiewe wyse geïnterpreteer vanuit die perspektief van wat hy ’n politiek van marginaliteit noem. Hy het nou baie waarde geheg aan die feit dat Mapplethorpe, as ’n homoseksuele man, destyds in sy eie, Amerikaanse samelewing gemarginaliseer was. Mercer benadruk dat Mapplethorpe gevolglik ’n marginale posisionering met sy fotografiese modelle gedeel het, al is dit in sy geval nie op grond van ras nie, maar van seksuele oriëntering. Dit is dan ’n geval van ’n asimmetriese verdeling van bevoorregting en marginaliteit volgens ras en gender met Mapplethorpe as ’n wit man, maar ’n homoseksueel, en sy naakmodelle as heteroseksuele mans, maar swart. Vir Mercer (1991:191) kompliseer dit die interpretasie van Mapplethorpe se portrette aansienlik en vereis dit ’n erkenning van, soos hy dit stel, “the ambivalence of identity and identification we actually inhabit in living with difference”.

In dieselfde trant as Mercer se hersiene interpretasie van Mapplethorpe se portrette wil ek betoog dat ’n soortgelyke, meer komplekse interpretasie van FWP noodsaaklik is om die verskillende vorme van marginalisering wat gelyktydig aanwesig is in die werk, tot sy reg te laat kom. Daar moet erkenning daaraan gegee word dat ’n kunstenaar in een opsig bevoorreg kan wees ten koste van sekere groepe en in ’n ander opsig self gemarginaliseer kan wees deur dieselfde groepe. As ’n wit persoon is Hutton ongetwyfeld bevoorreg in die huidige Suid-Afrika in vergelyking met die meerderheid mense van SKI-groepe. Vanuit die gesigspunt van Mercer se politiek van marginaliteit kan dit egter gestel word dat hierdie bevoorregting gebaseer op rasseverhoudings enigsins gefnuik word deur Hutton se alternatiewe, niebinêre gender in ’n hoofsaaklik heteronormatiewe, patriargale kultuur en samelewing, wat tog ’n gedeelde eienskap van alle rassegemeenskappe in Suid-Afrika is.

Sodanige interseksionele lesing lei tot ’n meer genuanseerde, positiewe beoordeling van FWP as ’n vorm van wit bondgenootskap met die swartbevrydingstryd. As ras as eksklusiewe interpretatiewe raamwerk gebruik word, dan kan die werk voorkom as ’n geval van ’n bevoorregte wit persoon se toe-eiening van die lyding of stemme van protes van groepe wat deur witheid gemarginaliseer is, terwyl hierdie persoon self nooit dieselfde ervaring van rassemarginalisering gehad het nie. As gender egter in ag geneem word, dan kompliseer dit die voorstelling van Hutton as ’n blote buitestander tot die spesifieke vorme van marginalisering wat swart gemeenskappe moet verduur. Hutton deel immers ervarings van gendermarginalisering met lede van die SKI-gemeenskappe. Daar kan ongetwyfeld aangevoer word dat Hutton enigsins beskerm is teen genderdiskriminasie en -geweld deur ’n beter sosio-ekonomiese posisie as gevolg van wit bevoorregting. Dit dui egter eerder op verskillende grade van blootstelling aan gendermarginalisering as op ’n volledige gebrek daaraan.

 

12. Ten slotte

In hierdie artikel het ek aangetoon dat ’n oënskynlik eenvoudige kunswerk soos FWP, wat ek as kenmerkend ag van die kulturele politiek van die huidige dekolonialiserende studentebewegings in Suid-Afrika, eintlik baie kompleks en meerduidig is. Ek het drie verskillende interpretasies ontplooi. Eerstens voer ek aan dat daar ’n sterk effek van ooridentifisering geskep word deur FWP wat ’n sekere ironie tot gevolg het, asook ’n interne spanning met die kunstenaar se bewuste bedoelings en doelstellings. Tweedens benadruk ek, teenoor ’n eendimensionele interpretasie en beoordeling van die werk in terme van wit bevoorregting en die blote teruggee daarvan, op die belang van die openbare, performatiewe opvoering van wat ek rasseselfmoord noem in die stryd teen witheid en wit bevoorregting. Ten slotte, en dalk die belangrikste, wys ek op nog ’n derde komplikasie deur die genderdimensie in die werk eksplisiet te maak. Ek betoog dat hierdie genderdimensie ’n uiters belangrike rol speel in die beoordeling van die werk as ’n regmatige en konstruktiewe bydrae tot die swartbevrydingspolitiek.

Betreffende die laaste punt voer ek aan dat ’n insig van Kobena Mercer kan help om verstrengelde kwessies van ras, bevoorregting en gender beter te kan beoordeel in kunswerke soos FWP. Sentraal is die idee van ’n gemeenskaplikheid en bondgenootskap tussen groepe wat ’n marginale posisie inneem binne hulle eie wêrelde en gemeenskappe, ondanks verskille op vlakke van ras, gender of klas. Ek betoog dat kritiek teen wit bevoorregting binne die kunste partykeer die verskeidenheid en kompleksiteit van kwessies in spesifieke kunswerke nie gestand doen nie. Ek voer aan dat indien dit wel gebeur, ’n kunsaksie soos FWP wel deeglik ’n progressiewe bydrae lewer tot die stryd teen wit bevoorregting en ten gunste van swart bevryding. Dit dui op die noodsaak om op ’n meer genuanseerde en dalk positiewe wyse na te dink oor moontlike bondgenootskappe tussen individue of groepe van verskillende rasse en/of genderoriënterings wat op verskillende en soms teenstrydige maniere gemarginaliseer is.

 

Bibliografie

Araeen R., S. Cubitt en Z. Sardar (reds.). 2002. The third text reader on art, culture and theory. Londen, New York: Continuum.

Beech, D. en J. Roberts. 2002. The philistine controversy. New York en Londen: Verso.

Bennett, T. 1998. Culture: A reformer’s science. Londen: Sage Publishers.

Biko, S. 1987. I write what I like: A selection from his writings. Oxford: Heinemann.

Booysen, S. (red.). 2016. Fees Must Fall: Student revolt, decolonisation and governance in South Africa. Johannesburg: Wits University Press.

Botha, C. (red.). 2020. African somaesthetics: Cultures, feminisms, politics. Leiden: Brill.

Cabral, A. 1966. The weapon of theory. Marxist internet archive. https://www.marxists.org/subject/africa/cabral/1966/weapon-theory.htm (23 Oktober 2019 geraadpleeg).

Cape Party. 2017. Fuck white people vs love thy neighbour. YouTube, 17 Januarie. https://www.youtube.com/watch?v=wqVz-FCfrWc (4 November 2019 geraadpleeg).

Chernick, I. 2016. The man behind THAT Wits T-shirt. IOL News, 12 Februarie. https://www.iol.co.za/news/south-africa/gauteng/the-man-behind-that-wits-t-shirt-1983503 (4 November 2019 geraadpleeg).

Collison, C. 2017. Queer people fight for fair representation in the media. Mail & Guardian, 6 April. https://mg.co.za/article/2017-04-06-00-queer-people-fight-for-fair-representation-in-the-media (23 Oktober 2019 geraadpleeg).

Corrigall, M. 2016. Living sculpture: On a wing and a prayer. Times LIVE, 2 Augustus. https://www.timeslive.co.za/news/south-africa/2016-08-02-living-sculpture-on-a-wing-and-a-prayer (13 November 2020 geraadpleeg).

Du Toit P., F. Haffajee en P. Mabena. 2017. Revealed: Here is Shelley Garland … and why he did it. Huffington Post, 19 April. https://www.huffingtonpost.co.uk/2017/04/19/revealed-here-is-shelley-garland-and-why-he-did-it_a_22046533/ (13 November 2020 geraadpleeg).

Freire, P. 2016. Pedagogy in process: The letters to Guinea-Bissau. Londen en New York: Bloomsbury Academic.

Goldbard, A. 2015. Class suicide and radical empathy. Daily Kos, 10 April. http://www.dailykos.com/story/2015/4/10/1376791/-Class-Suicide-and-Radical-Empathy (23 Oktober 2019 geraadpleeg).

Groenewald, P. 2017. National gallery’s “Fuck white people” exhibit not OK. Politicsweb, 13 Januarie. https://www.politicsweb.co.za/news-and-analysis/national-gallerys-fuck-white-people-exhibit-not-ok (23 Oktober 2019 geraadpleeg).

Hendricks A. 2016. Rhodes Must Fall exhibition vandalised in UCT protest. GroundUp, 10 Maart. https://www.groundup.org.za/article/rhodes-must-fall-exhibition-vandalised-uct-protest (23 Oktober 2019 geraadpleeg).

Hobbs, P. en E. Rankin. 2003. Rorke’s Drift: Empowering prints. Johannesburg: Juta and Company Ltd.

Holland, P., J. Spence en S. Watney (reds.). 1986. Photography/politics: Two. Londen: Comedia.

Hutton, D. 2017. This is what Dean Hutton, creator of “F**ckWhitePeople” art, has to say about its vandalism. Huffington Post, 18 Januarie. https://www.huffingtonpost.co.uk/2017/01/18/this-is-what-dean-hutton-creator-of-f-ckwhitepeople-has-to_a_21657586/ (23 Oktober 2019 geraadpleeg).

Kant, I. 2000. The critique of judgement. Cambridge: Cambridge University Press.

Meisenhelder, T. 1993. Amílcar Cabral’s theory of class suicide and revolutionary socialism, Monthly Review, 45(6):40–8.

Mercer, K. 1991. Looking for trouble. Transition, 51:184–97.

—. 1986. Imaging the black man’s sex. In Holland e.a. (reds.) 1986:61–96.

Miles, E. 2004. Polly Street: The story of an art centre. Volume 1. The Ampersand Foundation.

Mngxitama, A. 2013. Decolonising the African Queer Movement. Mail & Guardian, 13 Augustus. https://mg.co.za/article/2013-08-11-andile-mngxitama-decolonising-the-african-queer-movement (13 November 2020 geraadpleeg).

Ntuli, P. 2018. The other(ness) problem of Inxeba. Daily Maverick, 7 Maart. https://www.dailymaverick.co.za/article/2018-03-07-op-ed-the-otherness-problem-of-inxeba (13 November 2020 geraadpleeg).

Olivier, B. 2017. Protests, “acting-out”, group psychology, surplus enjoyment and neoliberal capitalism. Psychology in Society, 53:30–50.

Pather, R. 2017. Court declares “Fuck White People” is neither racist nor hate speech. Mail & Guardian, 5 Julie. https://mg.co.za/article/2017-07-05-court-declares-fuck-white-people-is-neither-racist-nor-hate-speech (13 November 2020 geraadpleeg).

Pauwels, M. 2017. In defence of decolonial philistinism: Jameson, Adorno, and the redemption of the hatred of art. Cultural Politics, 13(3):326–47.

—. 2019a. Agonistic entanglements of art and activism: #RhodesMustFall and Sethembile Msezane’s Chapangu performances. De Arte, 54(3):3–22.

—. 2019b. What the EFF’s self-styled militarism says about South Africa’s third largest party. The Conversation Africa, 9 Mei. https://theconversation.com/what-the-effs-self-styled-militarism-says-about-south-africas-third-largest-party-116463 (13 November 2020 geraadpleeg).

—. 2020a. Disinfect this! Scato-aesthetic indictments of South Africa’s social and cultural divisions. In Botha (red.) 2020:207–28.

—. 2020b. Intersections of queer art and African indigenous culture: The case of Inxeba (The Wound). Journal of the British Society of Phenomenology, 51(4):366–80.

Pauwels, M. en G. Boie. 2007. Always choose the worst option: Artistic resistance and the strategy of over-identification. In Pauwels en Boie (reds.) 2007:18–39.

Pauwels, M. en G. Boie (reds.). 2007. Cultural activism today: The art of over-identification. Rotterdam: Episode Publishers.

Petersen, C. 2016. Trans Collective trashes RMF exhibition, IOL News, 11 Maart. https://www.iol.co.za/news/south-africa/western-cape/trans-collective-trashes-rmf-exhibition-1996847 (23 Oktober 2019 geraadpleeg).

Philile, N. 2018. The other(ness) problem of Inxeba. Daily Maverick, 7 Maart. https://www.dailymaverick.co.za/article/2018-03-07-op-ed-the-otherness-problem-of-inxeba (13 November 2020 geraadpleeg).

Pinto, G. 2015. Creative women: Sethembile Msezane on black women and colonialist ideologies. Between 10 and 5, 26 Augustus. https://10and5.com/2015/08/26/creative-women-sethembile-msezane-black-women-colonialist-ideologies (13 November 2020 geraadpleeg).

Ross, E.A. 1901. “The causes of race superiority”. The Annals of the American Academy of Political and Social Science, 18(1):67–89.

Shusterman, R. 2000. Pragmatist aesthetics: Living beauty, rethinking art. Lanham, Maryland: Rowman and Littlefield.

Sosibo, K. 2017. Is “Fuck White People” fucking itself? Mail & Guardian, 3 Februarie. https://mg.co.za/article/2017-02-03-00-is-fuck-white-people-fucking-itself (13 November 2020 geraadpleeg).

Steyn, P. en C. Mailovich. 2016. Dosent: “wit mense moet sterf”. Beeld, 11 Maart. https://www.pressreader.com/south-africa/beeld/20160311/281865822572876 (13 November 2020 geraadpleeg).

Straubhaar, R. 2015. Will you commit class suicide with me? Open Democracy, 14 Augustus. https://www.opendemocracy.net/en/transformation/will-you-commit-class-suicide-with-me (23 Oktober 2019 geraadpleeg).

Williamson, S. 1990. Resistance art in South Africa. Londen: Catholic Institute for International Relations.

Xaso, L. en Z. Pikoli. 2017. Trengove had no right to make a movie about us, IOL News, 19 Maart. https://www.iol.co.za/news/opinion/trengove-had-no-right-making-a-movie-about-us-8256194 (23 Oktober 2019 geraadpleeg).

Žižek, S. 2006. The parallax view. Cambridge: MIT Press.

 

Eindnotas

1 Die werk is in September en Oktober 2016 in die Iziko South African National Gallery in Kaapstad uitgestal. Dit was deel van ’n groepsuitstalling getiteld “The Art of Disruptions”, saamgestel deur Ernestine White-Mifetu, Andrea Lewis en Ingrid Masondo.

2 Daar is weliswaar uitsonderings op hierdie oorheersende strekking. In ’n onlangse artikel het ek ’n voorbeeld van ’n alternatiewe, ietwat onverenigbare kunspolitiek binne die studenteprotesbewegings bespreek (Pauwels 2019a).

3 Daar is toenemend meer eenstemmigheid oor hoe om oor niebinêre persone te skryf, soos die vermyding van manlike en vroulike persoonlike voornaamwoorde, of die gebruik van genderneutrale vorme, soos eiename of meervoudsvorme. Ek het deurgaans meervoudsvorme gebruik aangesien Hutton self hulle voorkeur daarvoor uitgespreek het (Collins 2017).

4 Sien ’n reeks artikels van Dave Beech en John Roberts (2002) waarin een van die mees gevestigde estetiese tradisies in die Weste, gebaseer op die estetika van Immanuel Kant (2000), gedekonstrueer word vanuit die perspektief van sy radikale “Ander”, die filistyn. Hulle betoog dat sentrale begrippe binne hierdie tradisie, soos die outonomie en belangeloosheid van die estetiese ervaring, gevestig is deur ander alledaagse, wydverspreide, sinlike en praktiese vorme van estetiese ervaring te onderdruk en denigreer as synde “filistyns”. Beech en Roberts beskou dit as ’n geval van ’n minderheidskultuur wat sy eie partikuliere estetiese voorkeure verhef tot die universele essensie van die estetiese. In verwysing na ’n studie van Tony Bennett (1998) wys hulle verder op hoe hierdie ontwikkelinge deel was van ’n groter, sosiale en politieke projek van die burgery om hulle heerskappy oor die opkomende werkersklas te vestig.

5 Die student se naam word verswyg om vooroordele en inkriminasie teen die persoon te vermy. Die student se aksie was deel van ’n sogenaamde Art Activation-protesaksie.

6 Die Cape Party het ook by Kaapstad se landdroshof ’n saak teen die Iziko-galery gemaak, onder andere om die werk te laat verwyder, om dit tot haatspraak te laat verklaar en die galery te dwing om verskoning te vra (Pather 2017). Die hof het al die Cape Party se eise verwerp.

7 Daar was weliswaar enkele welbekende uitsonderings op hierdie algemene uitsluiting van swart bevolkingsroepe, soos die Polly Street Art Centre in Johannesburg (Miles 2004) en die Rorke’s Drift Art and Craft Centre in KwaZulu-Natal (Hobbs and Rankin 2003). In die marges van die amptelike kunswêreld was daar ook ’n tradisie van anti-apartheid-, verset- en proteskuns (sien byvoorbeeld Williamson 1990).

8 Dink aan kunstenaars soos Zanele Muholi, Mohau Modisakeng, Hasan en Husain Essop, Mary Sibande, Kudzanai Chiurai en Dineo Seshee Bopape.

9 Daar is ook ’n klag teen die student by die Suid-Afrikaanse Kommissie vir Menseregte gelê.

10 Dit is belangrik om te vermeld dat die term rasseselfmoord nie in sy oorspronklike betekenis en konteks gebruik word nie. Die term is vir die eerste maal aan die begin van die 20ste eeu deur die sosioloog Edward Ross (1991) gebruik. Die term is bekendgestel binne die problematiese veld van die rasverbeteringsleer vanweë ’n bekommernis dat sekere sogenaamd meerderwaardige rasse sou uitsterf as ’n gevolg van hulle eie negatiewe bevolkingsgroei en die enorme groei van veronderstelde minderwaardige rasse. My gebruik van hierdie term is, eerstens, nie gebaseer op ’n opvatting van ras as ’n biologiese gegewe nie, maar as ’n sosiale konstruksie (soos “witheid” byvoorbeeld). Tweedens word die selfmoord of uitsterwe nie in ’n letterlike, fisieke opsig verstaan nie, maar as ’n verwerping van problematiese aspekte van gekonstrueerde rasidentiteite. Derdens is daar geen veronderstelling van ’n meerderwaardigheid of minderwaardigheid van sekere rasse nie. Inteendeel, rasseselfmoord is juis ’n strategie om gevoelens van meerderwaardigheid te elimineer by groepe wat hulleself voorheen as meerderwaardig beskou het. As sulks word rasseselfmoord ook nie polities aangewend as ’n doemscenario vir ’n verdere mobilisering en afskeiding volgens rasselyne nie.

11 Delport het hierdie uitsprake gemaak tydens ’n paneelbespreking oor Afrikanerskap by die Universiteit van die Witwatersrand se Centre for Diversity Studies op 10 Maart 2016.

12 Sien die 2018 dokumentêre rolprent getiteld The Rachel divide deur regisseur Laura Brownson.

13 Sien byvoorbeeld Steve Biko (2002) se kritiek op die deelname van wit liberale studente in die studentebewegings van sy tyd wat hom daartoe gelei het om ’n uitsluitlik swart studentebeweging, die South African Student Organisation op te rig.

14 Die uitstalling het plaasgevind in die galery van die Centre for African Studies. Die kurator was Wandile Kasibe.

15 In uitsprake van Trans Collective-aktiviste oor hulle protesaksie kla hulle oor ’n “rigid loyalty to patriarchy, cisnormativity, heteronormativity and the gender binary” (aangehaal in Petersen 2016) binne die #RhodesMustFall-studentebeweging. Die kollektief beskou dit as sy rol “to speak back at” #RhodesMustFall en “keep […] it accountable to its commitment to intersectionality, precisely because it is positioned as a black decolonial space” (aangehaal in Petersen 2016). Daar was nog ander slagspreuke wat met rooi verf op van die uitstalling se werke geverf is, en die aktiviste het ook die toegange tot die uitstalling versper.

16 As deel van dieselfde werk was daar ook ’n latere vertoonkunsuitvoering op die historiese terrein van Greater Zimbabwe, getiteld Chapangu – The return to Greater Zimbabwe.

17 Vir ’n kritiese ontleding en beoordeling van hierdie tipe kritiek teen die rolprent Inxeba, sien my onlangse artikel, Pauwels (2020b).

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Dekolonialiserende kunsaktivisme op die interseksie van die stryd teen wit bevoorregting en gendermarginalisering appeared first on LitNet.

’n Voorlopige eties-moreel-pedagogiese besinning oor die behartiging van die COVID-19-pandemie deur onderwysrolspelers in Suid-Afrika

$
0
0

’n Voorlopige eties-moreel-pedagogiese besinning oor die behartiging van die COVID-19-pandemie deur onderwysrolspelers in Suid-Afrika

J.L. (Hannes) van der Walt, Spesialisnavorser, Edu-HRight Navorsingsfokusarea, Fakulteit Opvoedkunde, Noordwes-Universiteit

LitNet Akademies Jaargang 18(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Hierdie besinningsartikel is gebaseer op gevolgtrekkinge, gegrond op ’n literatuurstudie en ’n ontleding van toesprake en persberigte, aangaande die Suid-Afrikaanse owerheid (regering) en ander onderwysrolspelers se eties-moreel-pedagogiese handelinge tydens die eerste jaar van die COVID-19-pandemie (2020–1). Omdat die pandemie nog nie verby is nie, is hierdie waarnemings voorlopig, en sal historiese afstandneming lateraan toon hoe akkuraat en gepas hulle is. Die besinning begin met ’n uiteensetting van die eties-moreel-pedagogiese raamwerk as agtergrond waarteen veral onderwysgerigte handelinge tydens die eerste jaar van die pandemie beoordeel kon word. Daarin kom onder meer die onderskeid tussen die begrippe etiese, morele en pedagogiese aan die orde. Dit word gevolg deur ’n ontleding van die etiese verwagtinge van die owerheid (by monde van veral president Cyril Ramaphosa en minister van onderwys Angie Motshekga) soos in hulle toesprake aan die nasie en ander groeperinge verwoord, en daarna deur ’n ontleding van die morele reaksie van die onderwysgemeenskap op hierdie etiese oproepe. Die artikel eindig op die positiewe noot dat hoewel daar hier en daar in onderwysverband eties-morele foute begaan is, meestal op grond van onervarenheid, onsekerheid en oorywerigheid, daar uit die foute geleer is. Die hoop bestaan dat op grond van ’n sosiale kompak tussen die onderwysbestuurders en die onderwysgemeenskap wat algaande gestalte kry, die krisis in die skole meegebring deur die COVID-19-pandemie mettertyd met welslae die hoof gebied sal kan word.

Trefwoorde: COVID-19; etiek; etiese; moraliteit; onderwys; onderwysbeleid; pandemie; pedagogiese

 

Abstract

A preliminary ethical-pedagogical reflection on managing the COVID-19 pandemic by role-players in South African education

On 5 March 2021, exactly one year had passed since the first COVID-19 case was reported in South Africa. At the time of writing this article (May 2021), more than 54 000 South Africans have died from the virus or complications related to it, and it seems that the end of the pandemic is not yet in sight. Although the second wave of COVID-19 was apparently on the wane by January–February 2021, various institutions (the government, in particular the Department of Health, the South African Medical Association and epidemiologists) feared that a third wave could hit South Africa due to mass infection during the 2021 Easter weekend and the accompanying large gatherings that continued to take place despite official regulations.

The word preliminary appears in the title of this reflective article, as the pandemic is not over yet, and many things might still occur that may confirm or refute the statements in this article regarding managing education during this period, while having the best interests thereof at heart. However, it is necessary to do a preliminary reflection as it is now, in the heat of the battle, as important ethical-moral-pedagogical insights and guidelines for the rest of the pandemic period may emerge.

Another term in the title of the article that was deliberately selected was behartiging (Afrikaans), meaning “managing something by specifically having its best interests at heart” (Stoker 1967). The Afrikaans word was chosen (and not any other synonym), as it contains in itself specific ethical-moral-pedagogical connotations.

The investigation I am reporting on in this article was centred on the following question: How, and to what extent, did the various role players in the South African education arena, in terms of the offered ethical-moral-pedagogical assessment framework, acquit themselves of their task, in other words, manage their task with the best interests of education at heart?

The ethical-moral framework on which the argument is based is the result of an interpretive-constructive literature review. In essence, this method means that every “fact” uncovered by the researcher should be interpreted. This interpretation gradually goes deeper, until the point is reached where the applicable theoretical and pre-theoretical (philosophical) presuppositions at the root of the investigation come to the fore. On the basis of this deepest foundation, the researcher then proceeds to the construction of an own theoretical framework – the construction phase of the method. The ethical-moral-pedagogical framework presented in the article is the result of the work done in this phase. Later on, I also applied the interpretive-constructivist method in assessing the ethical-moral-pedagogical views and actions of the various role players during the first year of the COVID-19 pandemic.

In order to comprehend the events and views regarding the first year of the pandemic, I used document analysis. In the process, I analysed speeches by role players and also information in the daily press. With regard to the latter, I proceeded from the same assumptions about the use of the daily press as Bowie (2019), who noticed at least three advantages in consulting the daily press as a preliminary source of historical information: (a) it helps one to gain insight into the context in which the events have taken place; (b) it provides the researcher with a whole spectrum of data, a day-to-day chronology of events as observed through the eyes of people directly involved in them, as the daily press, according to Bowie, reflects the authentic voices of the people involved in, or commenting on, events in the past – almost in real time – and offers the researcher the opportunity to gain insight into the attitudes and opinions of both the actors and the observers in a variety of genres of historical research; and (c) the use of the daily press as a data source is not directly dependent on the researcher’s own ontology.

Although it would be relatively “easy” to assess the ethical-moral-pedagogical actions of the authorities (state, government, Department of Basic Education) and other role players in “normal times”, it is more difficult in times of prolonged crisis, such as a pandemic. It is clear from the investigation reported on in this article that at the outbreak of the pandemic, the government, as well as other role players, was still inexperienced and was caught off guard, but gradually began to understand and manage the situation better. The analysis showed that the government gradually learnt from the mistakes made, highly valued and tried to promote group cohesion and stability, and promulgated regulations, most of which, with the exception of those related to alcoholic beverages, tobacco products, clothing and footwear, could be regarded as ethically justified by the citizenry. With a number of exceptions, as noted by the president of South Africa, Cyril Ramaphosa, himself in his speeches, the citizenry internalised most of these promulgated regulations, and morally adapted themselves accordingly.

It is clear from the President’s speeches that he has gradually shifted the onus from the judicial-ethical task of the government to the moral responsibility of the citizens of the country. He did this by increasingly appealing to the moral compass of the latter. He gradually indicated that the prevention and combating of the pandemic would depend on the conscientious behaviour of each citizen.

Many mistakes were made during the first year of the pandemic in the field of pedagogy, in particular formal school education. Perhaps due to a lack of experience in crisis circumstances, the Department of Basic Education did not always act consistently and with compassion. Some announcements were made late, even at the last minute; the required protective equipment was not always made available to schools on time; proper consultation was not always done; the necessary infrastructure, such as running water, was not available everywhere; and so the list goes on. However, it seems as if things have gradually improved here as well. At the time of writing, learners are attending school in accordance with different attendance models in order to comply with safety regulations. There are signs that school education in 2021 will be fairly stable unless a third wave of the pandemic thwarts the status quo.

The initial situation faced by South Africans in March 2020 was the outbreak of the COVID-19 pandemic. This outbreak led to the authorities, the government of South Africa, having to take special measures to prevent a large-scale catastrophe. Although president Ramaphosa concluded each of his speeches with an implicit prayer and the hope that God would assist and save the South African nation during this state of disaster, it is not clear from which religious-philosophical point of departure this appeal to the Almighty was made. This is understandable, as the President speaks on behalf of all the citizens of the country, belonging to a rich variety of mainstream religions and denominations, with many following secular humanism. Hence, the President was forced to appeal to a generic Supreme Being.

As for the ethical-moral orientation of the government, judging by the speeches of both the President and minister of basic education Angie Motshekga, there is more clarity. A situationist orientation enabled the authorities to respond to the situation as it unfolded by, inter alia, announcing a state of disaster and then guiding the citizens through the five phases thereof. The President, and the government under his leadership, also followed a generalist-absolutist ethical approach in the sense that regulations (albeit sometimes somewhat ill-considered) were promulgated, and the citizens of the country were expected to obey them. On occasion, the President also followed a kind of natural (innate) law approach in appealing to the citizens of the country to do what they inherently knew was right to do. Although never stated in such terms, the values of ubuntu also came to the fore when the President occasionally mentioned that this was a Thuma Mina (send me) opportunity, and that the wellbeing of every citizen depends on the wellbeing and actions of all other South Africans.

As far as the ethical approach of the government is concerned, it can be concluded that the government, through the President, tried to maintain a balance between the deontological and the teleological. With regard to the former, the government has shown a strong sense of duty and has repeatedly emphasised that the citizens of the country too should fulfil their duty in the battle against the pandemic. As far as the teleological is concerned, it is clear from the President’s speeches that a victory over the pandemic is the ultimate goal of all of the measures taken and that everyone should work in that direction in solidarity, in the form of a social compact. The minister of basic education too was intent on establishing a delicate balance between the deontological (the duty to keep education running smoothly and to give the necessary attention to operational matters in the midst of the pandemic) and the teleological (successful education while the lives and health of all role players in education are preserved).

The investigation shows that much more is involved in taking care of a crisis such as the COVID-19 pandemic than may seem apparent. Apart from all the other matters involved, such as preventing large numbers of people from getting sick and dying, preventing the medical services from being overwhelmed, obtaining and providing the necessary medical equipment and medicines such as vaccinations, and managing the economy and education during times of crisis, there are less conspicuous, deeper-lying ethical-moral-pedagogical considerations at stake as well. These considerations also come into play in the management of formal education. It is gratifying to be able to conclude this article on a positive note, in that it appears as though the government of South Africa has understood and carried out its ethical-moral-pedagogical duty to a large extent, and that the moral compass of the citizenry has, in general, developed to the extent that they too understand and fulfil their moral obligations, also in the context of education. The mistakes made in education in the ethical-moral-pedagogical field have gradually been corrected. This offers hope that going forward, the pandemic will be dealt with successfully.

Keywords: COVID-19; ethics; education; education policy; morality; pandemic; pedagogy

 

1. Inleiding en probleemstelling

Op 5 Maart 2021 was dit presies een jaar sedert die aanmelding van die eerste COVID-19-geval in Suid-Afrika. Ten tye van die skryf van hierdie artikel (Mei 2021) het meer as 54 000 Suid-Afrikaners aan die virus of komplikasies daarvan gesterf, en blyk dit dat die einde van die pandemie nog nie in sig is nie. Hoewel die tweede vlaag daarvan teen Januarie–Februarie 2021 skynbaar aan die taan was, was daar vrese by verskeie instansies (die regering – by name die Departement van Gesondheid, die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging en epidemioloë) dat ’n derde vlaag kon kom weens massa-aansteking tydens die 2021-Paasnaweek en die gepaardgaande groot byeenkomste wat ondanks amptelike regulasies bly plaasvind het.1

Die woord voorlopig verskyn in die titel van hierdie artikel aangesien die pandemie nog nie verby is nie, en daar nog baie kan gebeur wat uitsprake rakende die behartiging van die onderwys gedurende hierdie tydperk mag bevestig of weerlê. Dit is egter nodig om nou reeds, in die hitte van die stryd, ’n voorlopige besinning te doen, aangesien daar belangrike eties-moreel-pedagogiese insigte en riglyne vir die res van die pandemietyd na die oppervlak mag kom.

’n Ander woord in die titel van die artikel is doelbewus so gekies, naamlik behartiging. Die keuse het op hierdie woord geval (en nie op byvoorbeeld die hantering, bestuur of verloop van die pandemie nie), aangesien die woord “be-hart-iging” op sigself bepaalde eties-moreel-pedagogiese betekenisnuanses huisves, soos ek hier onder in die konseptueel-teoretiese raamwerk verduidelik.

Die navorsingsvraag waaromheen die ondersoek gewentel het waaroor ek in hierdie artikel verslag doen, was: Hoe, en tot welke mate, het die verskillende rolspelers in die Suid-Afrikaanse onderwysarena hulle, in terme van die aangebode eties-moreel-pedagogiese beoordelingsraamwerk, van hulle taak gekwyt, hulle taak “be-hart-ig”?

 

2. Metodologiese verantwoording

Die eties-morele denkraamwerk wat ek in die volgende afdeling omlyn is die resultaat van ’n interpretatief-konstruktivistiese literatuurstudie. In wese kom hierdie metode daarop neer dat elke “feit” wat deur die navorser opgediep word, vertolk moet word. Hierdie vertolking geskied, soos Van der Walt (2020) aandui, op toenemend dieper vlakke totdat die punt bereik word waar die toepaslike teoretiese en voorteoretiese (filosofiese) vooronderstellings en waardes met betrekking tot die grondslag van die ondersoek vorendag gekom het. Op basis van hierdie diepste grondslag bou die navorser dan voort aan ’n eie teoretiese raamwerk – dit is die konstruktivistiese fase van die metode. Die eties-moreel-pedagogiese raamwerk wat in die volgende afdeling aangebied word, is die resultaat van die werk wat in hierdie fase gedoen is. Ek het die interpretatief-konstruktivistiese metode lateraan ook aangewend by die beoordeling van die eties-moreel-pedagogiese standpunte en die handelinge van die verskillende onderwysrolspelers tydens die eerste jaar van die COVID-19-pandemie.

Om die gebeure en standpunte rakende die eerste jaar van die pandemie te begryp, het ek gebruik gemaak van dokumentontleding. In dié proses het ek toesprake van rolspelers ontleed, en gebruik gemaak van inligting in die dagpers. Ek het met betrekking tot laasgenoemde van dieselfde veronderstellings oor die benutting van die dagpers uitgegaan as Bowie (2019:528–9) wat ten minste drie voordele raakgesien het in die raadpleging van die dagpers as voorlopige bron van historiese inligting:

(1) Dit help ’n mens om insig te kry in die konteks waarin die gebeure plaasgevind het.

(2) Dit verskaf aan die navorser ’n hele spektrum van data, met ’n dag-tot-dag-kronologie van gebeure soos waargeneem deur die oë van mense wat regstreeks daarby betrokke was. Die dagpers weerspieël, volgens Bowie, “die outentieke stemme van die mense betrokke by, of wat kommentaar lewer op die betrokke gebeure in die verlede – byna in werklike tyd; die pers bied die geleentheid aan die navorser om insig te verkry in die gesindhede en die menings van sowel die akteurs as die waarnemers in ’n verskeidenheid genres van … geskiednavorsing”.

(3) Die gebruik van die dagpers as databron is nie wesenlik afhanklik van die navorser se eie ontologie en epistemologie nie. Die gegewens wat hulle bied is ook vatbaar vir die navorser se vertolking en rekonstruksie (uit die Engels vertaal deur die skrywer hiervan).

Kortom het ek gebruik gemaak van inligting uit die dagpers en ander soortgelyke bronne as ’n eerste rondte van geskiedskrywing. Dit spreek vanself dat historiese afstandneming met verloop van tyd moet plaasvind om te kan oordeel tot welke mate die besinning wat hierna volg in die kol was.

 

3. Die eties-moreel-pedagogiese as denk- en beoordelingsraamwerk

Die probleem waaromheen die ondersoek gewentel het, bestaan uit drie onderskeibare elemente, naamlik die etiese, die morele en die pedagogiese. Dit is eerstens nodig om tussen hierdie drie elemente te onderskei en aan te dui hoedat hulle onderling met mekaar skakel, mekaar kwalifiseer en aanvul. Hierdie onderskeid is nodig as grondslag van ’n beoordelingsraamwerk aan die hand waarvan die eties-moreel-pedagogiese sieninge en handelinge van diegene by die onderwys betrokke tydens die eerste jaar van die pandemie beoordeel kon word.

3.1 Die betekenisonderskeid tussen etiese en morele

’n Studie soos waaroor daar hier verslag gedoen word, beweeg in die raakvlak tussen die etiek en die pedagogiek as wetensterreine. In hierdie afdeling van die artikel doen ek ’n besinning oor eersgenoemde, en veral oor die onderskeid in betekenis tussen die etiese en die morele. Die pedagogiese kom in subafdeling 3.3 aan die orde.

In sommige kringe staan die etiek as wetenskap ook bekend as die meta-etiek (Grayling 2019:xvii). Die etiek is ’n vertakking van die aksiologie, die wetenskap wat waardes en waardering as voorwerp van ondersoek het (Naugle 2012:73; Mitchell 2013:15). As wetenskap bied die etiek aan ons die resultate van teoretiese nadenke en besinning oor die aard van die etiese en/of die morele (onder meer die vraag na hoe daar onderskei kan word tussen reg en verkeerd, goed en kwaad), die wetenskaplike metodes waarmee sodanige onderskeid getref word asook die vooronderstellings betrokke by die etiese-morele (Frame 2008:11). Die benaming etiek is volgens Thompson (2018:3) sinoniem met die vakbenaming morele filosofie, wat wetenskaplik ondersoek of mense se handelinge reg of verkeerd is. Van Niekerk (2020:8) vat die taak van die etiek soos volg saam: Die etiek is ’n intellektuele aktiwiteit, die uitkoms van wetenskaplike denke, die gevolg van besinning oor die morele, die uitkoms van besinning oor die verskil tussen reg en verkeerd, goed en kwaad. Dit is dan op hierdie teoretiese (wetenskaplike) terrein dat ’n mens behoort te verduidelik wat die onderskeid tussen die begrippe eties en moreel is.

Sommige etici beskou die terme etiek/moraliteit en die etiese / die morele as sinoniem (vgl. Frame, 2008:12) en uitruilbaar (Thompson 2018:3). Geisler (2010:15) doen dit deur aan te voer dat die etiese te doen het met wat moreel reg of verkeerd is. Hierteenoor stel Grayling (2019:xvii) dat nadere ondersoek toon dat die woorde eties en moreel op verskillende dinge dui. Vir hom lê die verskil daarin dat die etiese te doen het met die karakter (met verwysing na die Griekse woord ethos) van ’n persoon wat ’n bepaalde daad verrig, terwyl die morele meer te doen het met sy of haar gesindheid, sin vir plig en verpligtinge (met verwysing na die Latynse mos, mores).

Vir die doeleindes van die ondersoek waaroor daar in hierdie artikel gerapporteer word, het ek ook ’n onderskeid tussen hierdie twee begrippe gemaak; een wat gedeeltelik ooreenstem met ’n ander siening van Grayling (2019:xvii). Na sy mening het die etiese ook te doen met die sienings en standpunte van individue en organisasies aangaande hulle waardestelsels, hoe hulle meen hulle behoort op te tree en hoe hulle hulself sien. Hiermee stem ek saam; professionele organisasies soos mediese, aptekers- en onderwysrade skryf byvoorbeeld etiese gedragskodes voor aan diegene wat by hulle ingeskryf is. Ek gaan egter ietwat verder as Grayling met die onderskeid wat ek tref. Professionele etiese kodes word myns insiens van buite af op die lede van sulke rade of organisasies opgelê, en straf (soos skorsing of ontslag) kan uitgemeet word wanneer sulke kodes oortree word. Professionele etiek gaan van die veronderstelling uit dat daar in ’n professie rigtinggewende waardes, beginsels, kodes, gewoontes en verwagte vorme van gedrag is, en dat die lede van die professie hulle daarvolgens behoort te gedra (Baijnath 2017:202).

In aansluiting hierby is ek van mening dat die morele/moraliteit op die waardes of norme dui wat iemand of ’n groep persone verinnerlik (geïnternaliseer) het, hulle eie gemaak het, en waaraan hulle hulself vrywillig onderwerp. Die straf in hierdie geval is nie skorsing of ontslag nie, maar die dra van die gevolge (konsekwensies) van ’n mens of groep se optrede in die betrokke samelewingskonteks (die beginsel van “wat jy saai sal jy maai”; vgl. Naugle [2012:51]). Bower (2005:248) stem hiermee saam as hy stel dat ’n norm wat slegs meganisties gehoorsaam word, en nie verinnerlik en in die hart as reg ervaar word nie, geen deugdelikheid beliggaam nie. Hierdie standpunt klop in ’n hoë mate ook met dié van Van Niekerk (2020:8) wanneer hy stel dat moraliteit “die waarneembare verskynsel [is] dat mense hul gedrag onderwerp aan die vereistes van ’n behorenseis”. Dit is die erkenning dat mense se gedrag onderworpe behoort te wees aan norme. Ook Thompson (2018:3) meen dat die morele verwys na of ’n persoon se handelinge reg of verkeerd is. Soos hier onder verduidelik word, is die verinnerliking van beginsels, norme en waardes ten diepste ’n pedagogiese proses, ’n vormingsproses.

Baijnath (2017:200) verskil van my siening van etiek as ’n reël- of normkode wat van buiteaf op mense gelê word. Volgens hom is die etiek ’n dinamiese en voortdurende aktiwiteit eerder as gehoorsaamheid aan ’n stelsel van morele kodes en beginsels wat in formele beleidsdokumente opgeneem is. Hy gee egter tegelyk toe dat ’n leier oor ’n diepgesetelde (dus verinnerlikte) waarderaamwerk, opvattingsraamwerk en lewensvisie behoort te beskik wat voortvloei uit diepe kennis en vaardigheid. Met hierdie siening gee hy implisiet toe dat die morele neerkom op die verinnerliking van norme en waardes wat aanvanklik deur opvoeding, opleiding en voor-lewing van buite op ’n mens gelê is.

Die onderskeid tussen die etiese en die morele kan soos volg aan die hand van die situasie wat rondom COVID-19 in Suid-Afrika en elders heers, verduidelik word. Landsburgers, hetsy as individue of as groepe, het die keuse om die etiese gedragskodes, reëls of norme wat van buite deur die owerheid afgekondig word, te verinnerlik, hulle eie te maak, te gehoorsaam of om daarvan af te wyk. Wanneer ’n persoon getrou ’n gesigsmasker dra, sosiale afstand toepas, sy of haar hande gereeld was, nie byeenkomste bywoon waar ’n groter aantal mense as die voorgeskrewe getal teenwoordig is nie, nie oor provinsiale of landsgrense gaan as dit verbied word nie, ensovoorts, dan toon dit dat so ’n persoon die afgekondigde reëls en norme verinnerlik het, en dus besluit het om moreel verantwoordelik en toerekenbaar op te tree. ’n Belangrike element van hierdie verinnerlikte normstruktuur is “persoonsbe-hart-iging”, die “van-harte-omgee” vir ander en hulle belange, soos Stoker (1967:251) dekades gelede al aangevoer het.

3.2 Die eties-morele raamwerk

’n Oorsig oor sieninge aangaande die eties-morele lewe van die mens en van gemeenskappe bring al gou aan die lig dat daar nog steeds ’n Babelse verwarring in hierdie opsig heers. Frame (2008:xxvi) merk tereg op dat die literatuur oor hierdie onderwerp baie verwarrend was – en dit is nog steeds, soos hier onder blyk. Ten einde ’n dieper begrip te kan kry van die eties-moreel-pedagogiese behartiging van die COVID-19-pandemie in 2020–1 was dit egter noodsaaklik om ’n samehangende teoretiese raamwerk uit al die verwarrende gegewens rondom die eties-morele te probeer opbou. Die resultaat van hierdie besinning, tentatief en gebrekkig soos dit mag wees, sien soos volg daar uit.

3.2.1 Die beginsituasie

Daar duik van tyd tot tyd, en van plek tot plek, situasies op wat die betrokke rolspelers verplig om bepaalde besluite oor hulself, andere en die werklikheid rondom hulle te neem. Eties-morele oordeel veronderstel oor die algemeen dat ’n bepaalde persoon ’n bepaalde norm in ’n bepaalde situasie moet toepas (Frame 2008:33). Mense, in hierdie geval die bevolking van ’n land soos Suid-Afrika, bevind hulle in ’n ingewikkelde sosiaal-maatskaplike en eties-morele landskap. Hulle is byvoorbeeld lede van verskillende groepe, waarvan sommige mag oorvleuel (soos die huwelik, die gesin en die uitgebreide familie), en ander konsentriese sirkels vorm (soos die buurt wat deel vorm van ’n stad, wat weer deel vorm van ’n provinsie en wat op sy beurt weer deel vorm van die land). Tydens ’n pandemie moet ’n individu dus besluit by welke groep hy of sy hulle gaan skaar in die betrokke situasie (byvoorbeeld of hulle die inentings gaan neem, en of hulle dit nie gaan doen nie omdat die sosiale media hulle daarteen waarsku), en by welke groep hulle prioriteite lê (Lahti en Weinstein 2005:59). Die bestuurders van die formele onderwys (skoolonderwys) in die land word met so ’n komplekse eties-moreel-pedagogiese landskap gekonfronteer.

3.2.2 Die religieuse/lewensbeskoulike as vertrekpunt

Soos alle ander handelinge van die mens en van gemeenskappe, is eties-morele handelinge ten diepste in die een of ander lewensbeskouing of -opvatting begrond. ’n Mens sou kon redeneer, aldus Frame (2008:5, 10), dat die eties-morele oordele van die mens selfs nog dieper begrond is, naamlik in die religieuse/godsdienstige oriëntering van die betrokke persoon. Alle eties-morele oordele en handelinge veronderstel die aanwesigheid van ’n aantal uiteindelike (verinnerlikte) waardes. Soos waargeneem kan word uit McDowell en Brown (2009) se oorsig van die belangrikste wêreldgodsdienste, werk byna alle godsdienste met duidelike opvattinge van reg en verkeerd, en van goed en kwaad (vgl. Revision World Networks [2018]; Davids [2018:671–2] se illustrasie hiervan na aanleiding van die eties-morele binne die omlysting van Islam; Gangte [2018:55] s’n na aanleiding van die Christelike etiek en moraliteit; ook Frame [2008:3], Geisler [2010:15], Van der Walt [2007:228, 234] en Poythress [2006:198] s’n na aanleiding van die sekulêre humanisme).

Die goue reël om aan almal te doen soos jy graag wil hê hulle ook aan jou moet doen, is die naaste waaroor ons beskik as ’n universele eties-morele kode (Hoppe 2020:81–2). Dit is omdat die mens ten diepste homo adorans (’n aanbiddende wese) is (Naugle 2012:51). Die mens is, benewens religieuse wese, ook ’n wese wat omgee en sorg. Van Niekerk (2020:8) beaam hierdie siening deur te stel dat moraliteit ’n universele verskynsel is; na sy wete is daar geen samelewing of kultuur waarin moraliteit in hierdie sin nie voorkom nie. Morele besorgdheid, of die eis om morele verantwoordbaarheid, is universeel aan menslike gedrag (vgl. ook Donovan 1986:368; McKay en Whitehouse 2015).

3.2.3 Die keuse van ’n eties/morele oriëntering

Die eties-moreel handelende agent, in hierdie geval ’n onderwysbeleidmaker en/of -bestuurder, kies op grond van die vermelde religieus-lewensbeskoulike vertrekpunt ’n bepaalde eties-morele oriëntering van waar hy of sy die betrokke situasie (soos die COVID-19-pandemie) benader. Die literatuur lig ’n groot aantal sulke oriënterings uit (die ruimte in ’n tydskrifartikel laat nie toe dat elkeen van hulle in besonderhede bespreek word nie),maar ’n paar sulke oriënterings is die volgende (vgl. Geisler 2010:22–9; Naugle 2012:84; Bangura 2005:13 e.v.):

  • die antinomianisme (daar is eintlik geen norme beskikbaar aan die hand waarvan iets beoordeel kan word nie)
  • die situasionisme (daar is eintlik geen vaste norme nie; die situasie bepaal hoe opgetree moet word)
  • die generalisme (daar bestaan eintlik geen absolute norme nie, maar hier en daar kan daar een wees wat algemeen aanvaar word)
  • die ongekwalifiseerde absolutisme (die agent moet hou by ’n paar absolute norme; geen afwyking daarvan word geduld nie)
  • die botsende absolutisme (daar is baie norme en hulle bots soms met mekaar – in so ’n geval volg ’n mens maar die een wat die minste kwaad tot gevolg het)
  • die gegradeerde absolutisme (sommige norme is belangriker as ander, en moet dus gevolg word)
  • die natuurlike reg- of wetbenadering (elke mens het van nature ’n aanvoeling vir reg of verkeerd, goed of kwaad; – dit is in die mens[dom] ingebore of ingeskape)
  • ubuntu (die mens se bestaan is slegs sinvol as dit saam met dié van ander is, en indien daar tot voordeel van almal gehandel word).

3.2.4 Die keuse van ’n eties-morele benadering tot die situasie

Die betrokke onderwysbeleidmaker of -bestuurder se eties-morele oriëntasie lei in die praktyk tot die keuse van een, twee of selfs ’n hele paar praktiese eties-morele benaderings om die situasie mee te behartig (vgl. Poythress 2006:210; Frame 2008:31 e.v.; Geisler 2010:19; Naugle 2012:76 e.v.; Baijnath 2017:200 e.v.):

  • opdrag-etiek (waaronder apodiktiese etiek en legalisme/wettisisme)
  • narratiewe of verhalende etiek (wat fokus op ’n verhaal wat konteks verleen aan etiese besluitneming)
  • deugde-etiek (wat fokus op die innerlike aard of karakter van die persoon),
  • sosiale etiek (byvoorbeeld in en tussen samelewingsverbande)
  • kasuïstiese (situasiegerigte) etiek
  • teleologiese (doelgeoriënteerde) etiek
  • deontologiese (taak- of pligs-) etiek
  • eksistensialistiese (persoonlike, inwaartskykende, karakter-) etiek
  • konsekwensialistiese (gevolgs-) etiek
  • utilitariese (nuttigheids-) etiek
  • sorg-etiek
  • professionele etiek
  • inklusiwiteits- (insluitende) etiek
  • geregtigheidsetiek
  • beoordelende (“critique”) etiek
  • gemeenskapsetiek, en nog meer.

Die volgende skema, ontleen aan Geisler (2010:19), kan deur die betrokke onderwysbeleidmaker en/of -bestuurder toegepas word in die behartiging van die onderwyssituasie tydens ’n pandemie:

Tabel 1: Deontologiese en teleologiese etiek

Deontologiese etiek (pligsetiek) Teleologiese etiek (doel- of uitkomsetiek)
Die reël of norm bepaal die uitkoms Die uitkoms of resultaat bepaal die reël
Die reël of norm is die grondslag van die handeling Die resultaat vorm die grondslag van die handeling (die doel heilig die middel)
Die reël of norm is altyd goed, afgesien van die uitkoms van die handeling Die reël is slegs goed as die resultaat goed is
Die uitkoms word altyd beoordeel in die konteks van die reël of die norm Die resultaat noodsaak soms dat die reël of norm verbreek moet word
Sentreer rondom die plig van die persoon wat die handeling uitvoer Sentreer rondom die uitkoms wat bereik moet word (byvoorbeeld konsekwensialisme en utilitarianisme)

 

’n Uitsluitlik deontologiese benadering lei tot ’n oordrewe pligsbesef. ’n Uitsluitlik teleologiese benadering kan daarteenoor tot allerlei vorme van relativisme lei, naamlik die siening dat daar geen absolute waarhede is nie, en dat elkeen na goeddunke kan handel (Mitchell 2013:16, 23). ’n Ewewig tussen hierdie twee pole moet dus gesoek word. Pligsbesef of -nakoming behoort altyd ook die uitkomste of die resultate van ’n handeling in gedagte te hou. Die resultate moet daarteenoor beoordeel word aan die hand van of binne die konteks van die reël of die norm. ’n Onderwysbeleidmaker en -uitvoerder behoort dus nie uit slegs pligsbesef ’n aantal maatreëls af te kondig nie, maar behoort ook te reken met die verwagte uitkomste van sulke afkondiginge en van die stappe wat dienooreenkomstig geneem word. Hierdie fyn balans moet ook tot sy reg kom in die onderwysbestuur tydens ’n krisis soos ’n pandemie wat, soos Gladwell (2010:29) aandui, nuwe omstandighede skep, en verskillende vorme van gedrag by mense ontlok.

3.2.5. Doeloriëntering

Uit die voorgaande is dit duidelik dat ’n persoon (soos ’n onderwysbeleidmaker of -bestuurder) doelgeoriënteerd behoort te wees. In ’n dinamiese sosiale omgewing, soos wanneer ’n pandemie woed, moet die doel ten diepste gerig wees op die bevordering van die welsyn van elke individu en ook op die behoud en instandhouding van groepstabiliteit – in die geval van die pandemie, die groepstabiliteit in die land as nasionale eenheid (Lahti en Weinstein 2005:48). ’n Belangrike insig van Lahti en Weinstein (2005:58) in hierdie verband is dat die mense (die burgers van die land) moet voel dat hulle die vryheid het om hulle eie gedragsbesluite te neem, en dat hulle nie daartoe verplig word deur wetgewing of dwang nie. Hulle kan wel deur gemeenskapsverwagtinge daartoe genoop word. Hulle moet ook besef dat die afgekondigde regulasies tot hulle eie voordeel en in hulle eie belang is, al moet hulle tydelik onder die stremmende regulasies swaarkry, soos om hulle kinders tuis te versorg en besig te hou, en te help met hulle tuiswerk as die skole tydens inperking gesluit is. Die uiteindelike voordeel, naamlik die behoud van lewens, moet swaarder weeg as die tydelike ontbering en swaarkry. Dit is die plig van die onderwysowerheid, die minister van onderwys en die lede van provinsiale uitvoerende komitees om swaarkry tot die minimum te beperk, om die periode van swaarkry so kort as moontlik te hou, en om waar moontlik te kompenseer vir verliese wat gely word.

Die gehoorsaming van die afgekondigde reëls tydens ’n inperkingstyd hou ook verband met elke individu en groep se eie morele kompas. Die begrip morele kompas dui op die volgende: ’n persoon of groep se verstaan van die wêreld en van hulle plek daarin; hulle begrip vir die ingewikkeldheid van die werklikheid en van hul eie rol daarin (Myers 2016:7); hulle innerlike moraliteit – hulle begrip van reg en verkeerd, goed of kwaad (Petrovic en Kuntz 2014:x); en morele bewussyn, of bewussyn met ’n gewete (Dill 2012:542). Elke persoon se morele kompas vertoon minstens drie kernkenmerke (Frame 2008:50):

  1. Dit is gefundeer in ’n deontologiese beginsel: ’n goeie handeling is ’n respons op pligsgevoel, selfs al sou dit selfopoffering vereis.
  2. Dit reken ook, soos hier bo gestel, met ’n teleologiese beginsel. ’n Goeie handeling bevorder die gelukkige saamwees van soveel as moontlik ander mense (burgers van die land).
  3. Dit sentreer om ’n eksistensiële beginsel: ’n moreel goeie handeling vloei voort uit ’n goeie innerlike karakter.

Waar hierdie drie beginsels saamvloei in die vorming en inhoudgewing van ’n persoon of groep se morele kompas, getuig dit van die innerlike lewe van die persoon of groep, en kan daar verwag word dat morele saambinding tussen al die betrokkenes (die landsowerheid en die burgery) sal plaasvind (dat ’n morele kompak gevorm word), en dat die individu en/of die groep ’n aanvaarbare doeloriëntering vertoon.

3.3 Die pedagogiese as eties-moreel gesitueerd

Elke pedagogiese handeling is ingebed in ’n etiek van liefde, sorg, persoonsbehartiging en omgee (vgl. Gladwell 2010:239; Koonce 2018:105). Hierdie etiek (in teenstelling met byvoorbeeld ’n etiek van geregtigheid, kritiek, gemeenskap of professie) is sorg-, deernis-, ontfermings- en erbarmingsbepaald en -gerig, en word gekenmerk deur meegevoel, meelewing, begrip en vertroue (Baijnath 2017:201). Die vormende en toerustende sorg waarvan daar in die opvoeding sprake is, vereis, soos Noddings (2003:24) raakgesien het, dat ’n mens (die opvoeder) uittree uit sy of haar eie verwysingsraamwerk en in dié van die ander, die opvoedeling, intree. ’n Mens (opvoeder) wat omgee, staan oop vir die sienswyse van die ander, vir sy of haar objektiewe behoeftes, en vir hulle verwagtinge. Die opvoeder se aandag is ten volle gerig op die persoon of persone vir wie daar omgegee of gesorg word, en nie op die self of eie behoeftes en planne nie. Die sorggewende opvoeder se redes vir optrede sentreer rondom die behoeftes en begeertes van die opvoedeling en op die objektiewe elemente van die problematiese situasie waarin die opvoedeling mag verkeer.

Die pedagogiese proses is ’n vorm van sosialisering waardeur die oordrag van die waardes en ideale van een geslag na die volgende plaasvind; dit help die jongmense om in die sosiale orde in te pas en ’n plek vir hulself daarin te kry. Om hierdie rede is Nussbaum (2011:23) van mening dat opvoeding (en dus ook opvoedende onderwys) neerkom op die leiding, voorligting en voorlewing, ontplooiing, vorming, ontwikkeling, opleiding, toerusting en instaatstelling van die kind as lid van die opkomende geslag. Haar ontleding van die opvoedingshandeling klop met dié van Van Crombrugge (2006), wat in sy boek agtereenvolgens opvoeding as vorming, leiding en ontwikkeling behandel, dog “vorming als principe van opvoedend onderwijs” (Van Crombrugge 2006:189 e.v.) beskou. Al hierdie handelinge, gegrond in die liefde en sorg vir die opvoedeling, vorm deel van die sosialiseringsproses van die opkomende geslag. Die sosialiseringsproses geskied altyd met die oog op die inpassing van die nuwe geslag in ’n bepaalde sosiale orde, tesame met die moontlikhede en beperkinge daarvan. Opvoeding, dus ook opvoedende (skool)onderwys, het ten doel om ’n mens met bepaalde eienskappe, kennis, vermoëns en vaardighede te vorm, en toe te rus met toepaslike persoonlikheidseienskappe, norme en waardes, en vaardighede. Volgens Dill (2013) is die ideale waarmee die opkomende geslag toegerus word altyd eties-moreel van aard; dit is normatiewe eise aangaande dít wat die lede van toekomstige generasies behoort te wees, en die verwagting is dat die opvoedeling dit moreel sal verinnerlik en daarmee vorm sal gee aan die morele kompas wat in die opvoedeling aan die ontwikkel is. Hierdie toerustingsproses – die verinnerliking van beginsels, norme en waardes – geskied ten beste as dit stilswyend en vanselfsprekend plaasvind.

Die aanleer en morele verinnerliking van norme en van moraliteit vind plaas in die konteks van die persoonlike. Mense leer hulle morele beginsels in ’n morele konteks: aan moedersknie, in die skool, in die kerk, en in nasionale feesvieringe. Die bemeestering van morele beginsels vind in interpersoonlike verhoudinge plaas. Tydens die voorlewing en nalewing van morele beginsels kom kinders spoedig agter dat mense moreel feilbaar is, en dat hulle steeds op die uitkyk moet wees vir hoër en beter voorbeelde, en hulle vind dit soms in ’n religieuse konteks (Frame 2008:62). Sommiges val egter bloot terug op die mens se ingeskape sin vir wat reg en verkeerd is; die sogenaamde natuurlike of ingebore wet waartoe alle mense toegang kan kry deur hulle verstand en hulle gewetens (Mitchell 2013:60). Die mens se spontane aanvoeling vir die bepalings van die natuurlike wet is nie altyd betroubaar nie; dis daarom dat misdaad in sommige gemeenskappe hoogty vier. Sulke mense se gewetens is óf onvolwasse, óf ongevorm óf toegeskroei (Frame 2008:122).

Nasionale en provinsiale onderwysbeleidmakers en -bestuurders behoort hulle onderskeie take, ook en veral tydens ’n pandemie soos die COVID-19-krisis, teen die agtergrond van die voorgaande eties-moreel-pedagogiese beginselraamwerk uit te voer. Omdat hulle, afgesien van hulle aanvanklike professionele opleiding – hetsy as opvoeders, opvoedkundiges, onderwyskundiges, en tans as politici – in diens van die land en die burgers staan, behoort hulle egter ook op die hoogte te wees van die beginsels wat te doen het met die rol en die plek van die staat of die owerheid van die land.

 

4. Die rol en plek van die staat of owerheid

Daar is byna algemene instemming dat die handhawing van wet en orde in ’n land noodsaaklik is, maar dat hierdie taak in ewewig met die reg tot die persoonlike vryheid van elke burger, en ook groepe in die samelewing, uitgevoer behoort te word. Die owerheid se gesag en mag vorm die grondslag van sy uitoefening van wet en orde, maar hierdie gesag en mag is nie absoluut nie; dit word gewoonlik ingeperk, onder meer deur die regte en die voorregte van die burgers van die land (en uiteraard ook lewensbeskoulik, ’n vraagstuk wat nie in hierdie bespreking aangeraak word nie)(vgl. Lahti en Weinstein 2005:58; Strauss 2014:19–24). Die regeertaak is dus onderworpe aan allerlei beperkinge, onder meer die feit dat die handhawing van wet en orde saamhang met die etiese. Regulasies ter wille van die handhawing van wet en orde moet naatloos saamhang met die etiese, die “be-hart-iging” van die belange van die burgery. Indien dit nie gebeur nie, kan die burgery in opstand kom. Die regering of owerheid, en dus ook die minister van onderwys en die onderwysbestuurders in die provinsiale uitvoerende rade, mag en behoort dus nie tiranniek op te tree nie, maar is veronderstel om die burgers van die land te dien; die owerheid behoort solidariteit met die bevolking te toon en tot hulle beswil op te tree. Die beginsel dat die regering tot die beswil van die bevolking moet optree beteken egter nie dat die regering van die land ’n kinderoppasserstaat (’n staat waarin die regering namens die burgery besluit wat eties-moreel aanvaarbaar is of nie) moet maak nie (Grayling 2010:216). Die rol van die owerheid word dus gekenmerk deur ’n strewe na ’n fyn balans tussen beperkte regering en beperkte persoonlike vryheid (Frame 2008:48).

 

5. Vrae uit die voorgaande aan die hand waarvan die optrede van die Suid-Afrikaanse onderwysowerheid en die burgery beoordeel kan word

Dit is uit die voorgaande uiteensetting van die eties-moreel-pedagogiese oorwegings wat moontlik tydens die behartiging van ’n pandemie ter sprake kan wees, duidelik dat ’n reeks vrae aan al die betrokkenes en belanghebbendes (soos die onderwysbeleidmakers en -bestuurders, die onderwysers, ouers en leerlinge) gestel kan word. Om die resultate van so ’n omvattende ondersoek in ’n enkele tydskrifartikel te probeer aanbied is nie haalbaar nie. Om hierdie rede het ek besluit om slegs twee kernvrae, wat met die navorsingsvraag waaromheen hierdie artikel wentel verband hou, te stel. Die navorsingsvraag lui: Hoe, en tot welke mate, het die verskillende rolspelers in die Suid-Afrikaanse onderwysarena hulle, in terme van die aangebode eties-moreel-pedagogiese beoordelingsraamwerk, van hulle taak gekwyt? Die twee vrae wat na aanleiding van hierdie vraag gestel word, is:

  1. Tot welke mate het die onderwysbeleidmakers en -bestuurders tydens die eerste jaar van die pandemie gehandel volgens die eties-pedagogiese beginsels wat hier bo uitgestippel is?
  2. Hoe het sake in die praktyk tydens die eerste jaar van die pandemie in terme van die moreel-pedagogiese gedrag van die landsburgers rakende onderwysaangeleenthede verloop?

’n Ontleding van die ondersoekmateriaal wat hier bo in die metodologiese verantwoording vermeld is, bring die volgende as antwoorde op hierdie vrae na vore:

5.1 Die eerste vraag: Tot welke mate het die onderwysbeleidmakers en -bestuurders hulle tydens die eerste jaar van die pandemie gehandel volgens die eties-pedagogiese beginsels wat hier bo uitgestippel is?

Hierdie vraag het, in terme van die onderskeid wat ek hier bo gemaak het tussen die etiese en die morele, met eersgenoemde te doen: Wat was die normatiewe verwagtinge wat van buite Suid-Afrikaners as individue en groepe gekom het in verband met hoe hulle hulle in die aangesig van die pandemie behoort te gedra? Om hierdie vraag te beantwoord het ek ’n ontleding gedoen van uitsprake deur die president van Suid-Afrika as die staats- of regeringshoof, en van uitsprake deur me. Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys.

’n Oorsig van die besluite en handelinge van, en maatreëls getref deur minister Motshekga bring aan die lig dat sy en haar departementele raadgewers streng gehou het by die riglyne soos afgekondig deur die President. Sy het haar, soos dit iemand wat ’n politieke amp onder die leiding van die President beklee betaam, vereenselwig met die etiese standpunte van die President as die hoof van die regering. Dit is derhalwe noodsaaklik om eers te let op die etiese beskouinge van die President, soos hulle na vore kom in sy toesprake gerig aan die nasie in die periode tussen Maart 2020 en Maart 2021.

President Ramaphosa gee in sy toesprake aan die nasie nie veel aandag aan onderwyssake as sodanig nie. Slegs in twee daarvan wy hy ’n paar woorde aan die omstandighede van onderwysers en ouers. Hy maak dit duidelik dat hy almal wat by die onderwys betrokke is oor dieselfde kam skeer as alle ander burgers. Hy stel egter eksplisiet dat die gesondheid en die welsyn van leerlinge en onderwysers van kritieke belang is. Hy noem ook dat dit tydens gesprekke met onderwysbelanghebbende instansies geblyk het dat daar algemene instemming was dat die gesondheid en die akademiese en sosiale ontwikkeling van die leerlinge van die belangrikste oorwegings is wanneer nagedink word oor die heropening van die skole (Ramaphosa, 23 Julie 2020).

’n Ontleding van die President se toesprake gerig aan die nasie toon dat hulle deurspek is van terme en begrippe wat getuig van die etiese bewoënheid van die President self, van die kabinet en ook van die bevelsraad wat in die lewe geroep is om die pandemie die hoof te bied. Die volgende is voorbeelde hiervan. Hy doen ’n beroep op die burgery om ’n gedragsverandering te ondergaan aangesien dit belangrik is vir hulle gesondheid en welsyn. Hy stel dat die veranderinge baie ontwrigtend vir hulle sal wees en dat dit angs, en selfs vrees en paniek, mag meebring. Die stappe wat geneem word, moet groter begrip en meegevoel onder die mense teweegbring. Die gesondes moet die siekes en die weerloses help en bystaan (Ramaphosa, 15 Maart 2020).

Suid-Afrikaners moes moeilike keuses en opofferings maak, maar dit was uiters belangrik met die oog op oorwinning oor die pandemie. Hulle het getoon dat hulle vasbeslote en doelgerig kan wees (Ramaphosa, 23 Maart 2020). Later meld hy dat Suid-Afrikaners na sy mening verantwoordelik en gedissiplineerd optree, maar dat daar nog enkeles is wat hulle nie aan die regulasies steur nie. Hy spreek ook besorgdheid uit oor die lot van die bejaardes en die weerloses, en oor die studente en leerders wat hulle klasse misloop (Ramaphosa, 30 Maart 2020). Lateraan stel hy dat Suid-Afrikaners besig is om aan te pas by ’n nuwe lewenswyse (Ramaphosa, 23 April 2020). Dit is nodig omdat die pandemie ’n bedreiging vir menselewens inhou. Suid-Afrikaners toon groot dapperheid, veerkragtigheid en verantwoordelikheid, maar hulle word opgeroep om ook verantwoordelikheid vir hulle eie gesondheid en vir dié van andere te neem. Al was daar heelwat verskille en onenighede tussen mense (en ook tussen die owerheid en die burgery) was daar tegelyk ook goedheid teenoor mekaar, empatie en meegevoel, moed en solidariteit (Ramaphosa, 13 Mei 2020).

Sowat twee maande later kla die President dat sommige mense onverantwoordelik optree en nie sorg dra vir ander se gesondheid nie, en dat hulle ongeërg en roekeloos optree. Hy doen ’n beroep op almal om verantwoordelik, sorgsaam en simpatiek op te tree (Ramaphosa, 12 Julie 2020). Die regering is voorts besorg oor die gesondheid en die welsyn van sowel leerlinge as onderwysers (Ramaphosa, 23 Julie 2020). Hoewel die opskorting van drankverkope vir sommige baie ontwrigtend was, was dit nodig ten einde die pandemie te bestry (Ramaphosa, 1 Augustus 2020). Twee weke later meld hy dat daar hoop bestaan dat die pandemie aan die verswak is, en dat dit toegeskryf kan word aan die opofferings van alle Suid-Afrikaners. Die pandemie het pyn, angs en moedeloosheid met verreikende gevolge vir baie Suid-Afrikaners meegebring (Ramaphosa, 15 Augustus 2020). Twee maande hierna herhaal hy dat hy begrip het vir die moeilike tye waardeur Suid-Afrikaners moes gaan, maar stel andermaal dat hulle moet doen wat hulle weet wat reg is om te doen. Hulle moet volhard daarmee om te toon dat hulle veerkragtig en dapper is, dat hulle omgee vir andere wat in rou en siekte verkeer, en wat verliese deur die pandemie gely het. Dit is die individuele optrede van elke persoon in die daaropvolgende weke en maande wat die lot van almal gaan bepaal (Ramaphosa, 11 November 2020). Net twee weke later spreek hy sorg uit oor die feit dat sommige mense hulle nie hou by die regulasies nie, en doen ’n beroep op almal om hulle gedrag te verander sodat die pandemie nie weer opvlam nie. Hulle moet meer verantwoordelik optree; hulle skuld dit aan hulself en ook aan andere (Ramaphosa, 3 Desember 2020).

Vroeg in 2021 wens hy Suid-Afrikaners geluk daarmee dat hulle nie geswig het voor groot swaarkry nie, maar dat hulle vasberade, dapper, verenig en hoopvol gebly het. Dit het nie hulle gees geblus of hulle vasberadenheid verswak nie, maar hulle meer hoopvol, verenig en vasbeslote gemaak om die uitdaging van die pandemie met welslae die hoof te bied (Ramaphosa, 28 Februarie 2021). Kort voor die Paasvakansie doen hy ’n beroep op Suid-Afrikaners om so op te tree dat die lewens van mense nie bedreig word nie (Ramaphosa, 30 Maart 2021).

Minister Motshekga lewer vroeg in 2021 twee toesprake waarin sy terugskouend oor die vorige jaar gedagtes uitspreek oor haar en haar Departement se werksaamhede. In hierdie toesprake spreek sy enkele gedagtes van etiese aard uit en dit is duidelik dat sy met haar sieninge in die etiese kielsog van die President vaar. Op 9 April 2021 (Motshekga 2021a) stel sy dat die morele imperatief van die regering was en is om te verseker dat alle Suid-Afrikaners hulle basiese regte as burgers behoort te kan geniet. Sy beroep haar op die handves van menseregte in die grondwet. Sy doen dan ’n beroep op Suid-Afrikaners om ’n sosiale kompak te vorm ten einde die pandemie te oorkom. In ’n toespraak vyf dae later (Motshekga 2021b) herhaal sy, weer in navolging van die President, dat die gesondheid en veiligheid van onderwysers, ander personeel en leerders bo-aan haar en haar Departement se prioriteitslys is. Hierdie sake is vir hulle van “kritieke belang”. Hulle bly ook toegewyd aan die gedagte om ander rolspelers te raadpleeg in die bestryding van die pandemie. Hulle werk steeds aan die versterking van vennootskappe ten einde die basiese-onderwys-sektor verder te versterk.

In hierdie toespraak verduidelik sy dan die strategie wat sy en haar Departement tot op daardie tydstip in die pandemietyd gevolg het. Hulle het gepoog om ’n delikate ewewig te bewerkstellig tussen die behoud van gesondheid en veiligheid in skole, en die kurrikulumgapings wat in 2020 ontstaan het. In die res van die toespraak wy sy geen verdere aandag aan die eties-pedagogiese aspekte van haar en haar Departement se strategie nie, maar bespreek ’n wye verskeidenheid operasionele onderwys- en skoolsake wat aan die orde kom as deel van haar Departement se strategie om die pandemie te oorkom.

5.2 Die tweede vraag: Hoe het sake in die praktyk tydens die eerste jaar van die pandemie in terme van die moreel-pedagogiese gedrag van die landsburgers rakende onderwysaangeleenthede verloop?

Hierdie vraag het veral te doen met die morele, dit wil sê die mate waarin die burgers van die land, soos die ouers, die onderwysers, die georganiseerde professie en die leerders, hulle bereidheid getoon het om die etiese reëls en regulasies wat aan hulle opgelê is, te verinnerlik, hulle eie te maak en te gehoorsaam.

Die meeste ontevredenheid, sover ek kon vasstel, het ondanks die President en die Minister se goeie bedoelings en oproepe juis in die onderwyssektor kop uitgesteek, hoofsaaklik weens ongemotiveerde stappe en swak tydsberekening aan die kant van die Departement van Basiese Onderwys (DBO) en van ander rolspelers. Die volgende is enkele voorbeelde hiervan.

Op 29 April 2020 dreig die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie die Minister met ’n hofbevel indien die DBO nie die nodige toerusting beskikbaar stel vir die ontsmetting van die skole nie (Gregan 2020a:6). Die volgende dag berig Prince, Van der Walt en Gregan (2020:2) dat ’n reeks verwarrende boodskappe deur die Minister, die adjunkminister en die direkteur-generaal van die DBO uitgestuur is oor die heropening van die skole. Op 19 Mei 2020 skryf Gregan, Cilliers en Louw-Carstens (2020:1) dat die hele skoolsektor nog steeds op die DBO wag vir leiding. Hulle sê dit na aanleiding van die feit dat minister Motshekga ’n perskonferensie wat op 18 Mei 2020 sou plaasvind drie keer agtereenvolgens uitgestel het omdat samesprekings met die lede van uitvoerende komitees en die bevelsraad nog nie afgehandel was nie. Gregan (2020c:4) skryf dat daar op 23 Mei 2020 nog steeds kommer bestaan het of die skole gereed is om te open.

Teen 30 Mei 2020 spreek sommige onderwysbelanghebbendes kommer uit oor die chaotiese toestand rondom die heropening van die skole in Junie, en die Federasie van Suid-Afrikaanse skole kla dat dit/hulle nie by die onderhandelinge oor die opening van die skole betrek is nie (Gregan en Jansen van Rensburg 2020:8). Op ongeveer hierdie tydstip kondig minister Motshekga planne aan vir die heropening van die skole vir graad 7’s en 12’s, maar meld dat daar nog geen planne vir die ander grade is nie. Sy sou eers na 15 Junie aandag gee aan “ander sake” soos die ander grade, sentrums vir vroeëkindontwikkeling, en spesiale en kleiner skole (Gregan 2020d:7).

Dan, op die nippertjie, stel die DBO die heropening van die skole, wat vir 1 Junie geskeduleer was, met ’n verdere week uit omdat sommige skole nie gereed was nie (Herselman 2020). Na die heropening van die skole vir die gemelde twee grade op 8 Junie 2020 het letterlik honderde ander skole oor die land heen aansoek gedoen om ook die ander grade toe te laat om skool by te woon (Van Zyl 2020:9). Skole in die Wes-Kaap het dit in elk geval gedoen (Gregan 2020e:7), tot die ontsteltenis van die Menseregtekommissie (Gaum 2020:5). Op 4 Junie 2020 kondig die DBO aan dat alle skole voor 8 Junie 2020 mag open indien hulle daarvoor gereed is (Gregan 2020f:9). Slegs vyf persent van die skole in die land was nie gereed vir heropening nie, maar volgens die Minister sou aandag aan hulle geskenk word sodat geen kind sou agter raak nie (Janse van Rensburg en Du Plessis 2020:1).

Die sluiting van alle skole op 24 Julie 2020 weens vrese vir ’n nuwe uitbreking van die virus het sonder voorval verloop, maar dieselfde kan nie gesê word van hulle heropening op 24 Augustus 2020 nie. Heropening was onderworpe aan allerlei regulasies, maar sommige skole het dit goed gedink om van die voorgeskrewe infaseringskedule af te wyk (Gregan 2020g:6).

Die heropening van die skole aan die begin van 2021 het oor die algemeen glad verloop, hoewel nie al die skole voldoende beskermende toerusting ontvang het nie (Gregan 2021a:1). Sommige ouers was egter ontevrede omdat die skole eers twee weke later as oorspronklik geskeduleer geopen het (Spamer 2021:13). Daar was ook kritiek op die samestelling van die 2021-skooljaar, veral van die kant van sommige onderwysvakbonde (Gregan 2021b:1). Die verkreupeling van die ekonomie het teen hierdie tyd ook begin veroorsaak dat al hoe meer ouers nie skoolgelde kon betaal nie (Swartbooi 2021:6). Voedingskemas is voortgesit waar dit moontlik was. Daar was ook deurlopend kommer oor die veiligheid van onderwysers, veral dié met komorbiditeite (Le Cordeur 2021:7). Kommer kan ook uitgespreek word oor die feit dat tussen 30 en 60 skooldae in 2020 verloor is, en dat nagenoeg twee miljoen leerders nie in Januarie 2021 teruggekeer het skool toe nie (weens skoolverlating en die voortsetting van tuisstudie). Daar is ook tekens dat baie skole selfs die verkorte kurrikulum vir 2020 nie kon voltooi nie, en dat hierdie leerders verder aan met groot agterstande in hulle kennis en vaardighede mag worstel (Klopper2 2020).

 

6. Bespreking in die lig van die teoretiese raamwerk

Hoewel dit relatief “maklik” sou wees om die eties-moreel-pedagogiese handelinge van die owerheid (die staat, die regering en die Departement van Basiese Onderwys) en ander rolspelers in “normale tye” te beoordeel, is dit moeiliker in tye van langdurige krisis soos ’n pandemie. Dit is duidelik dat die owerheid, en ook ander rolspelers, by die uitbreek van die pandemie nog onervare was en dikwels onkant gevang is, maar dat hulle die situasie algaande al beter begin verstaan en hanteer het. Die ontleding hier bo het getoon dat die regering algaande geleer het uit die foute wat gemaak is, groepsamehorigheid en -stabiliteit hoog op prys gestel het en probeer bevorder het, en algaande regulasies afgekondig het waarvan die meeste, met uitsondering van dié wat betrekking gehad het op alkoholiese drank, rookgoed, klerasie en skoeisel, deur die burgery beskou kon word as eties verantwoord. (Op die tydstip dat die regulasies oor klerasie ensovoorts afgekondig is, het dit geskyn of Suid-Afrika besig was om in ’n kinderoppasserstaat te ontaard.)3 Met ’n aantal uitsonderinge, soos deur die President self in sy toesprake opgemerk, het die burgery die meeste van hierdie afgekondigde regulasies verinnerlik, en hulle moreel daarvolgens geskik.4

Dit is ook uit die toesprake van die President duidelik dat hy algaande die onus verskuif het vanaf die juridies-etiese taak van die owerheid na die morele verantwoordelikheid van die burgers van die land. Hy het dit gedoen deur toenemend ’n beroep te doen op laasgenoemde se morele kompas. Hy het gaandeweg aangedui dat die voorkoming en bestryding van die siekte sal afhang van die gewetensbegronde gedrag van elke landsburger.

Van die meeste eties-morele foute is gemaak, en haakplekke het tydens die eerste jaar van die pandemie opgeduik op die terrein van die pedagogiese, by name die formele skoolonderwys. Dit wil sê, daar is op skoolonderwysgebied nie voldoende empatie, sorg en persoonsbehartiging aan die dag gelê nie. Miskien weens ’n gebrek aan ervaring in krisisomstandighede het die Departement van Basiese Onderwys nie altyd konsekwent en bedagsaam opgetree nie. Sommige aankondigings is (te) laat, selfs op die nippertjie, gemaak; die nodige beskermingstoerusting was nie altyd betyds aan skole beskikbaar gestel nie; die nodige raadpleging is nie altyd gedoen nie; die nodige infrastruktuur, soos lopende water, was nie oral beskikbaar nie; en so kan die lys uitgebrei word. Dit wil egter voorkom of sake ook hier algaande verbeter het. Ten tye van hierdie skrywe gaan die leerders skool ooreenkomstig verskillende bywoningsmodelle ten einde aan veiligheidsregulasies te voldoen. Daar is tekens dat skoolonderwys in 2021 op ’n redelik stabiele wyse sal verloop – tensy ’n derde vlaag van die pandemie die status quo in die wiele ry.

Met verwysing na die teoretiese raamwerk wat aan die begin van hierdie artikel omlyn is, kan daar tot die volgende slotsom gekom word.

Die beginsituasie waarmee Suid-Afrikaners in Maart 2020 gekonfronteer is, was die uitbraak van die COVID-19-pandemie. Hierdie uitbraak het enersyds daartoe gelei dat die owerheid, die regering van Suid-Afrika, besondere maatreëls moes instel om ’n grootskaalse ramp te voorkom. Hoewel president Ramaphosa elkeen van sy toesprake afgesluit het met ’n implisiete gebed en hoop dat God die Suid-Afrikaanse nasie tydens die ramptoestand sal bystaan en red, is dit nie seker vanuit welke religieus-lewensbeskoulike vertrekpunt hierdie appèl op die Allerhoogste gemaak word nie. Dit is verstaanbaar, aangesien die President namens al die burgers van die land praat, en hulle behoort aan ’n ryke verskeidenheid hoofstroomgodsdienste, ander godsdienstige strominge, en baie hang die sekulêre humanisme aan. Dus was die President genoop om ’n beroep te doen op ’n generiese God. Dit het die ruimte vir elke aanhoorder van die toespraak gelaat om die gebed spesifiek te rig aan die God wat hulle aanbid.

Wat die owerheid se etiese oriëntering betref, is daar te oordeel aan die President en die minister van basiese onderwys se toesprake meer duidelikheid. ’n Situasionistiese oriëntering het die owerheid in staat gestel om telkens op die situasie soos dit ontvou het, te reageer, onder andere deur ’n ramptoestand af te kondig, en dan die burgery deur die vyf fases daarvan te lei. Die President en die regering onder sy leiding het ook ’n generalisties-absolutistiese etiese benadering gevolg in die sin dat regulasies (weliswaar soms ietwat ondeurdag) afgekondig is, en daar verwag is dat die burgers van die land daaraan gehoorsaam moes wees. By geleentheid het die President ook ’n soort natuurlike (ingebore) wetsbenadering gevolg toe hy ’n beroep gedoen het op die burgers van die land om te doen wat hulle van nature weet wat reg is om te doen. Hoewel dit nooit in sulke terme gestel is nie, het ubuntu-waardes ook na vore gekom toe die president by geleentheid gemeld het dat dit ’n Thuma Mina- (stuur my-) geleentheid is, en dat die welsyn van elke burger afhang van die welsyn en die optrede van alle ander Suid-Afrikaners.

Die owerheid, by monde van die President, het ’n ewewig probeer handhaaf tussen die deontologiese en die teleologiese. Wat eersgenoemde betref, het die owerheid ’n sterk pligsbesef aan die dag gelê, en telkens ook die nadruk daarop gelê dat die burgers van die land hulle plig in die bestryding van die pandemie behoort na te kom. Wat die teleologiese betref, is dit uit die toesprake van die President duidelik dat ’n oorwinning oor die pandemie die uiteindelike doel van al die maatreëls is, en dat almal solidêr, in die vorm van ’n sosiale kompak, in daardie rigting behoort te werk. Ook die minister van basiese onderwys was daarop ingestel om so ’n delikate balans te bewerkstellig tussen die deontologiese (die plig om die onderwys glad te laat verloop en om te midde van die pandemie die nodige aandag aan operasionele sake te gee) en die teleologiese (geslaagde onderwys dog met behoud van die lewens en die gesondheid van alle onderwysbetrokkenes).

 

7. Slotsom

Die ondersoek waarvan ek die resultate in hierdie artikel aanbied, toon dat daar meer dinge by die “be-hart-iging” van ’n krisis soos die COVID-19-pandemie betrokke is as wat dit op die oog af mag voorkom. Afgesien van al die ander sake wat daarby betrokke is, soos om te voorkom dat groot getalle mense siek word en doodgaan, om te voorkom dat die mediese dienste oorval word, om die nodige mediese toerusting en medisyne soos inentings te bekom en te voorsien, en om die ekonomie en die onderwys tydens die krisistye te bestuur, is daar ook minder opvallende, dieperliggende eties-moreel-pedagogiese oorwegings ter sprake. Hierdie oorwegings kom ook in die “be-hart-iging” van die formele onderwys ter sprake. Dit is verblydend om hierdie artikel op ’n versigtig-positiewe noot te mag afsluit, naamlik dat dit voorkom of die owerheid van Suid-Afrika sy eties-pedagogiese plig tot ’n hoë mate verstaan en uitgevoer het, maar ook hier en daar eties-moreel gefouteer het, en dat die burgery se morele kompas oor die algemeen ontwikkel het tot die mate dat ook hulle hul morele verpligtinge verstaan, en oor die algemeen gesproke nakom; ook – soos aangetoon – in onderwyskonteks. Die foute wat in die onderwys op eties-moreel-pedagogiese terrein gemaak is, is algaande reggestel. Dit bied hoop dat die pandemie verder aan met welslae die hoof gebied sal kan word.

 

Bibliografie

Baijnath, N. 2017. Ethical leadership in higher education in the era of complexity. In Singh en Stückelberger (reds.) 2017.

Bangura, A.K. 2005. Ubuntugogy: An African educational paradigm that transcends pedagogy, andragogy, ergonagy and heutagogy. Journal of Third World Studies, 22(2):13–53.

Bower, C. 2005. Open minds, closed minds and Christianity. Valyland: Aardvark Press.

Bowie, D. 2019. Contextual analysis and newspaper archives in management history research. Journal of Management History, 25(4):516–32.

Davids, N. 2018. On an ethical enunciation of Islamic philosophy of education. In Smeyers (red.) 2018.

Dill, J.S. 2012. The moral education of global citizens. Global Society, 49(6):541–6.

—. 2013. The longings and limits of global citizenship education: The moral pedagogy of schooling in a cosmopolitan age. New York: Routledge.

Donovan, P. 1986. Do different religions share moral common ground? Religious Studies, 22(3/4):367–75.

Frame, J.M. 2008. The doctrine of the Christian life. Phillipsburg, NJ: P&R Publishing.

Gangte, Z.M. 2018. You are the light of the world (Matthew 5:14–16). An impetus for Christian social engagement. In Swamy, Paluri en Koshy (reds.) 2018.

Gaum, A. 2020. Beswaarde MRK-kommissaris. Beeld, 13 Junie, bl. 5.

Geisler, N.L. 2010. Christian ethics. Grand Rapids, MI: Baker Academic.

Gladwell, M. 2010. The tipping point. Londen: Abacus.

Grayling, A.C. 2010. Thinking of answers. Londen: Bloomsbury.

—. 2019. The history of philosophy. Londen: Random House.

Gregan, E. 2020a. ‘Moenie ander grade oorhaastig laat terugkeer skool toe nie’. Beeld, 10 Junie, bl. 6.

—. 2020b. SAOU dreig met hofbevel. Beeld, 29 April, bl. 6.

—. 2020c. Kommer oor skoolgereedheid. Beeld, 23 Mei, bl. 4.

—. 2020d. ‘Fokus op matrieks, gr. 7’s’. Beeld, 29 Mei, bl. 7.

—. 2020e. Vakbonde, MTK dreig Wes-Kaap. Beeld, 2 Junie, bl. 7.

—. 2020f. Skole mag vroeër open. Beeld, 4 Junie, bl. 9.

—. 2020g. Meeste leerlinge nou terug op skoolbanke. Beeld, 25 Augustus, bl. 6.

—. 2021a. R431m vir ontsmet van skole. Beeld, 27 Januarie, bl. 1.

—. 2021b. Skooljaar maak nie sin – Unies. Beeld, 10 Februarie, bl. 1.

Gregan, E. en A. Janse van Rensburg. 2020. Skole open: ‘Ernstige fout’. Beeld, 30 Mei, bl. 8.

Gregan, E., S. Cilliers en M. Louw-Carstens. 2020. Skole mor oor Angie, leerplan. Beeld, 19 Mei, bl. 1.

Herselman, M. 2020. Regte besluit om opening uit te stel – FEDSAS. Irp-edu-multiscreensite.com/C0ccic10/files/uploaded/Netwerk24%201%20 Junie%202020.pdf (26 Augustus 2020 geraadpleeg).

Hoppe, S. 2020. Marriage conflict. Talking as team mates. Phillipsburg, NJ: P&R Publishing.

Janse van Rensburg, A. en C. du Plessis. 2020. Angie: ‘G’n kind sal agterbly’. Beeld, 8 Junie, bl. 1.

Klopper, C. 2020. Stand van die onderwys. Onderhoud, Pretoria FM, 21 April.

Koonce, J. 2018. Critical race theory and caring as channels for transcending borders between an African American professor and her Latina/o students. International Journal of Multicultural Education, 20(2):101–16.

Lahti, D.C. en B.S. Weinstein. 2005. The better angels of our nature: Group stability and the evolution of moral tension. Evolution and Human Behavior, 26:47–63.

Le Cordeur, M. 2021. Wie sal sorg vir die versorgers? Beeld, 18 Januarie, bl. 7.

McDowell, M. en N. Brown. 2009. World religions at your fingertips. New York: Alpha Books.

McKay, R. en H. Whitehouse. 2015. Religion and morality. Psychological Bulletin, 141(2):447–73.

Mitchell, C.B. 2013. Ethics and moral reasoning. Wheaton, IL: Crossway.

Motshekga, A. 2021a. Remarks by the Minister of Basic Education at Sedibeng West district’s dialogue on strategic response to the impact of Covid-19 on schooling. 9 April. www.gov.za/speeches/statement (Maart–April 2021 geraadpleeg).

—. 2021b. Minister Angie Motshekga: State of readiness for 2021 school year. www.gov.za/speeches/statement (Maart–April 2021 geraadpleeg).

Myers, J.P. 2016. Charting a democratic course for global citizenship education: Research directions and current challenges. Education Policy Analysis Archives, 24(55):1–19.

Naugle, D.K. 2012. Philosophy. A student’s guide. Wheaton, IL: Crossway.

Noddings, N. 2003. Caring: A relational approach to ethics and moral education. Berkeley, CA: University of California Press.

Nussbaum, M.C. 2011. Creating possibilities. The human development approach. Cambridge, MA: The Belknap Press.

Petrovic, J.E. en A.M. Kuntz (reds.) 2014. Citizenship education around the world. New York en Londen: Routledge.

Petrovic, J.E. en A.M. Kuntz. 2014. Preface. In Petrovic en Kuntz. (reds.) 2014.

Poythress, V. 2006. Redeeming science. Wheaton, IL: Crossway.

Prince, L. en S. van der Walt. 2020. Hulp van R500 mjd. kom op dié plekke. Beeld, 22 April, bl. 1.

Prince, L., S. van der Walt en E. Gregan. 2020. Leerlinge mag nie nou al terug skool toe nie. Beeld, 30 April, bl. 2.

Ramaphosa, C. 2020–2021. Toesprake aan die nasie. www.gov.za/speeches/statement (Maart–April 2021 geraadpleeg).

Revision World Networks. 2018. Religious views of morality. https://revisionworld.com/a2-level-level-revision/religious-studies-level-revision/ethics/religious-views-morality (24 Oktober 2018 geraadpleeg).

Singh, D. en C. Stückelberger (reds.) 2017. Ethics in higher education. Geneve: Globethics.

Smeyers, P. (red.) 2018. International handbook of philosophy of education. Cham (Switzerland) Deel 1.: Springer International Publishing AG.

Spamer, T. 2020. Méér as kennisoordrag. Beeld, 20 Januarie, bl. 13.

Stoker, H.G. 1967. Oorsprong en rigting. Kaapstad: Tafelberg.

Strauss, D.F.M. 2014. A philosophical approach to law and religion. The Second Annual African Law and Religion Conference, Stellenbosch, 26–28 Mei.

Swamy, S., W. Paluri en A.T. Koshy (reds.). 2018. Christian engagement in social change. New Delhi: Christian World Imprints.

Swartbooi, B. 2021. Al meer ouers kan nie meer skoolgeld betaal. Beeld, 29 Januarie, bl. 6.

Thompson, M. 2018. Ethics for life. Londen: John Murray Learning.

Van Crombrugge, H. 2006. Denken over opvoeden. Antwerpen: Garant.

Van der Walt, B.J. 2007. Transforming power. Potchefstroom: Institute for Contemporary Christianity in Africa.

Van der Walt, J.L. 2020. Interpretism-constructivism as a research method in the Humanities and Social Sciences – more to it than meets the eye. International Journal of Philosophy and Theology, 8(1):59–68.

Van Niekerk, A. 2020. Moraliteit, etiek en reg verskil so. Beeld, 13 Oktober, bl. 8.

Van Zyl, A. 2020. Kinders moet skool toe – studie. Beeld, 18 Junie, bl. 9.

 

Eindnotas

1 Teen vroeg-Junie 2021 was daar tekens dat die derde vlaag van die pandemie wel aangebreek het. Vier provinsies het kommerwekkende toenames in COVID-19-infeksies aangekondig.

2 Klopper is Uitvoerende Direkteur van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie.

3 Hoewel die minister van samewerkende regering (Dlamini-Zuma) en die minister van handel en nywerheid (Patel) aanvanklik stappe afgekondig het wat deur sommige as sinloos en belaglik afgemaak is, het die owerheid op daardie tydstip ook heelwat probeer doen om die ellende van die pandemie die hoof te bied. Op 21 April 2020 het die president ’n maatskaplike en ekonomiese pakket van R500 miljard aangekondig om die pandemie die hoof te bied (Prince en Van der Walt 2020:1). Die onderliggende doel met die aanvanklike streng stappe was om te keer dat mense die strate invaar vir warm etes by kitskosrestaurante en vir drank en sigarette en sodoende die virus versprei. Hierdie maatreëls is algaande verslap.

4 Onder hierdie uitsonderinge tel die optrede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens tydens die vlak 5-inperking toe hulle mense selfs in hulle eie agterplase gekonfronteer het omdat hulle daar bier gedrink het. In een geval is ’n naakte man uit sy woning gesleep en aangerand, en in ander gevalle is ’n seun en ’n man wat bloot verby ’n optog geloop het, in die polisie-kruisvuur gedood. In die informele nedersettings (“townships”) het baie mense hulle nie aan die afgekondigde reëls gesteur nie. Mense het dikwels in groot getalle byeengekom om byvoorbeeld begrafisse of familiefeeste te hou, baie het nie maskers gedra nie, hande is nie gereeld gewas nie en sosiale afstand is nie streng gehandhaaf nie.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post ’n Voorlopige eties-moreel-pedagogiese besinning oor die behartiging van die COVID-19-pandemie deur onderwysrolspelers in Suid-Afrika appeared first on LitNet.


’n Verkenning van plaaslike musici se reaksies op die nasionale inperking as strategiese handelinge binne veldteoretiese denke

$
0
0

’n Verkenning van plaaslike musici se reaksies op die nasionale inperking as strategiese handelinge binne veldteoretiese denke

Joanita Erasmus-Alt, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 18(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Gedurende die COVID-19-pandemie is openbare musiekuitvoerings wêreldwyd geweldig deur inperkingsregulasies beïnvloed en beperk. In hul strewe na die verwerwing van een of ander vorm van kapitaal – hetsy materieel of simbolies – was musici genoop om hul musiek op digitale platforms met ’n gehoor te deel.

My bestudering van ander musici se reaksies as strategiese handelinge te midde van die grendelregulasies en die ondervinding wat ek opgedoen het uit my eie reaksies op die nasionale inperking, het my geïnspireer om dit wat ek geleer het, met ander te deel. Die artikel word in die vorm van ’n persoonlike narratief (scholarly personal narrative, kortweg SPN) aangebied. Hierdie navorsingsmetodologie waarin die navorsingsonderwerp en persoonlike ondervinding oorvleuel en waarin persoonlike ondervindings bydra tot die daarstelling van ’n strukturele raamwerk vir die ondersoek, bied aan my die ruimte om aspekte van my persoonlike belewing met akademiese navorsing te kombineer op ’n wyse wat die vraagstukke – en veral moontlike oplossings en voorstelle – rondom hierdie aktuele onderwerp duidelik belig.

Aangesien dit ontoereikend is om die verskynsel van virtuele musiekaanbiedings geïsoleerd van die konteks (die inperkings, kultuur en die samelewing) te bestudeer, bied Pierre Bourdieu se institusionele benadering tot die kulturele veld ’n waardevolle teoretiese raamwerk waarbinne die ondersoek aangebied kan word. Die analitiese waarde van Bourdieu se idees met betrekking tot kulturele kapitaal en van ’n homologie tussen velde (soos die ekonomiese, die opvoedkundige, die politieke en die kulturele velde) is steeds van toepassing in hedendaagse musikologiese studies. Alhoewel Bourdieu se veldteorie ’n nuttige analitiese model verskaf waarbinne smaakverskille by wyse van ’n rangordelike, georganiseerde reeks velde ondersoek kan word, hou dit nie rekening met die beskouing dat hoër-opgeleide persone geneig is tot kulturele “omnivoor”-gedrag nie. Soos wat dit uit hierdie ondersoek aan die lig sal kom, is dit nie net popsterre wat gedurende die inperkingstyd sosiale media as “verhoog” gebruik het nie; ook die onderhouers van die sogenaamde hoër kuns het hulle tot hierdie platforms gewend. Soos in die geval van Bourdieu word Richard Peterson en Roger Kern se benaderings tot smaakverskille gerig deur vraagstukke wat betrekking het op ongelykhede en status, maar anders as by Bourdieu is dit gebaseer op die splitsing tussen omnivore en univore (“snobs”).

Die artistieke veld is ’n veld van strydende kragte en struwelinge waarin die agente voortdurend in kompetisie is met mekaar. Dit is dus van die grootste belang dat musici kreatief te werk gaan om hul “produk” te laat uitstaan tussen die res. In haar kunssosiologie van die uitsonderlike, wat gebaseer is op die kunstenaarsmodel van die romantiek, stel Nathalie Heinich individualiteit en buitengewoonheid as die maatstawwe waaraan sukses gemeet word en onderstreep sy die belang van die artistieke gebeurtenis (“becoming eventful”). Aangesien hierdie ondersoek, tipies van persoonlike narratief, plekspesifiek is, is die vraag na die daarstelling van kultuurerfenis ook ter sake. Daarom vorm die kriteria wat Heinich as waardebepalend vir kulturele erfgoed stel, die uitgangspunt in hierdie induktiewe benadering.

Deur die ontleding van die gekose musici se handelinge sal aangetoon word dat die inperkingstyd baie vaste opvattings (en indelings) grondig aangetas en oopgestel het vir nuwe perspektiewe. Daarom kan die moontlikheid van ander vektore in die herrangskikking en aanpassing van musieksmaak (én uitsonderlikheid) in ’n verbruikersgemeenskap nie uitgesluit word nie. 

Trefwoorde: artistieke gebeurtenis; Pierre Bourdieu; ekonomiese kapitaal; Nathalie Heinich; inperking; Roger Kern; kulturele kapitaal; pandemie; Richard Peterson; simboliese kapitaal; sosiale kapitaal; virtuele musiekkonserte

 

Abstract

Exploring the responses of local musicians to the national lockdown as strategic actions within field-theoretical thinking

During the COVID-19 pandemic public musical performances globally have been impacted on and limited immensely by lockdown measures. As a music teacher, organist and choirmistress I have first-hand experience of the drastic influence the pandemic has had on the activities of musicians. Even early on in the pandemic the following question kept boggling my mind: How will I be able to retain my visibility in the community of music in which I work during the COVID-19 lockdown? I came to the realisation that I would have to turn to virtual music performances via social media – something with which I was not very familiar at that stage, therefore I would have to learn from other musicians’ responses to the lockdown. That evoked additional questions: What, exactly, is the driving force behind musicians’ virtual performance of music? What makes a virtual musical performance unique and special?

Considering the inadequacy of studying the phenomenon of virtual music performances isolated from the context (the pandemic, culture and society), Pierre Bourdieu’s institutional approach to the cultural field, in which the focus is on the relationship between mental (thought) systems, social institutions and different forms of material and symbolic capital, provides a valuable theoretical framework in which the investigation can be presented. The analytical value of Bourdieu’s ideas regarding cultural capital and a homology among fields (such as the economic, the educational, the political and the cultural fields) is still applicable in current-day musicological studies. Although Bourdieu’s field theory provides a useful analytical model according to which different preferences can be investigated by means of a series of fields ordered according to rank, it does not take cognisance of the view that more highly educated persons tend to display “omnivorous” cultural behaviour. As, during lockdown, not only pop stars were using social media as a “stage”, but also the supporters of the so-called higher arts, Richard Peterson and Roger Kern’s approaches to the differences in preference, based on the divide between omnivores and univores (“snobs”), are relevant in this investigation.

The artistic arena is a field of contending powers and conflict where the agents are continually in competition. Therefore it is of the utmost importance that musicians work creatively to have their “product” stand out from those of others. In her art sociology of the exceptional, based on the artist’s model of the Romanticism, Nathalie Heinich uses individualism and extraordinariness as the criteria in terms of which to measure success, and highlights the importance of the artistic occurrence (“becoming eventful”). As this investigation, typical of the personal narrative, is place specific, the question about establishing cultural heritage is relevant too. For that reason the criteria that Heinich proposes for the estimation of the value of cultural inheritance form the point of departure in this inductive approach. These value-assessment criteria are supplemented by involving other vectors in the rearrangement and adaptation of musical preference in a consumer society.

My study of the responses of other musicians as strategic actions in the midst of the pandemic and the experience I gained from my own responses to the national lockdown inspired me to share what I have learnt with others. For this reason the article is presented in the form of a so-called scholarly personal narrative (SPN for short). This research methodology, in which the research subject and personal experience overlap, and in which personal experiences contribute to the establishment of a structural framework for the investigation, grants me the space to combine aspects of my personal experiences with academic research in a way which clearly throws light on the issues and, in particular, possible solutions and proposals concerning this current and topical matter.

In the investigation into the occurrence of specific value-assessment criteria – among which exceptionality is one of the most important measures to determine success – mediation processes between works (musical recitals in this case) and audiences, and the construct of interdependency are of major importance. For that reason the number of times music videos have been uploaded, and the number of views, likes and shares are important indicators of visibility on social media and of people’s preferences.

Unlike what we usually find in typical narrative studies, qualitative methods were sometimes unavoidably mixed with quantitative approaches, and paradigm boundaries are crossed. In this article triangulation is, therefore, used – a method that has a bearing on the extent to which conclusions that have been based on qualitative data are supported by quantitative perspectives and vice versa.

Through the flexible use of various forms of data collected by means of posts on social media, photos, videos and e-mail correspondence, as well as diverse theoretical and methodological aids – a research method generally known as bricolage – a drastic increase in the number of musical recitals on social media has been noted, and the focus was on the role that social energy plays in differentiating between the exceptional and the ordinary.

From the investigation into the responses of local musicians to the lockdown, shared characteristics came to the fore. Although those who exercise the so-called higher arts usually position themselves within the artistic pool of the culturally orientated, the study also found an increase in their virtual musical recitals. It was also found that musicians sequentially and sometimes simultaneously had to play different roles within the cultural field due to their being personally responsible for the production of their musical performances during the greater part of the lockdown. As a result, their ranges were expanded. Although it is difficult to convert musical recitals to value in monetary terms, a trajectory or range that accommodates different roles in the cultural field makes it easier for musicians to make headway against the financial challenges ensuing from the lockdown. For all the participants in this investigation, obtaining and/or maintaining symbolic capital was the main driving force behind their virtual music performances. Due to symbolic capital (or visibility) being closely related to mediating processes between musical performances and audiences, interdependency crops up, and therefore the possibility of other vectors in the rearrangement and adaptation of musical preferences (and exceptionality) in a consumer community can never be excluded.

All the above-mentioned features display an inherent form of social energy and thus confirm the important role of negotiating and exchanging social energy in striving to attain symbolic capital.

Keywords: artistic occurrence; Pierre Bourdieu; cultural capital; economic capital; Nathalie Heinich; Roger Kern; lockdown; pandemic; Richard Peterson; social capital; symbolic capital; virtual music recitals

 

1. Inleiding 

1.1 Doel van die ondersoek

Wêreldwyd het inperkingsregulasies kulturele aktiwiteite aan bande gelê. As musiekonderwyseres, orrelis en koorleidster het ek eerstehandse ervaring van die drastiese invloed wat die inperkings op die werksaamhede van musici gehad het. Reeds vroeg in die pandemie het die volgende vrae my gedagtes oorheers: Hoe kan ek gedurende die COVID-19-inperkingstyd my sigbaarheid in die musiekgemeenskap waarin ek werksaam is, behou? Ek het besef dat ek my tot virtuele musiekaanbiedings op sosiale media moes wend ‒ iets waarmee ek op daardie stadium nie baie vertroud was nie. Ek sou dus uit ander musici se reaksies op die pandemie moes leer. Dit het bykomende vrae laat ontstaan: Wat presies is die dryfkrag agter musici se virtuele musiekbeoefening? Wat maak ’n virtuele musiekaanbieding uniek en uitsonderlik?

1.2 Teoretiese begronding

Aangesien dit ontoereikend is om die verskynsel van virtuele musiekaanbiedings geïsoleerd van die konteks (die pandemie, inperkings, kultuur en die samelewing) te bestudeer, toets ek my bevindinge induktief (kyk Babbie en Mouton 2001:273) aan die hand van Pierre Bourdieu se institusionele benadering tot die kulturele veld waarin op die verhouding tussen denksisteme, sosiale instellings en verskillende vorme van materiële en simboliese kapitaal gefokus word (kyk Bourdieu 1993, 1996a, 1996b). Alhoewel Bourdieu se veldteorie binne ’n spesifieke konteks geformuleer is, naamlik die Franse literêre veld in die 1900’s, is die analitiese waarde van sy idees steeds van toepassing in hedendaagse musikologiese studies:

Not only do they provide a way of making sense of the macro-historical and organisational differences between classical and popular music, but they also unveil the hidden sociological significance of micro-musical preferences. Very few competing approaches in the modern sociological tradition have revealed how society fits together at a structural level while linking this to empirical data on everyday behaviour. […] His concepts have been crucial to the development of a modern sociology grappling with how the whole music/society jigsaw fits together in a period that has witnessed the radical expansion of the pop-rock field. […] [T]wo of Bourdieu’s texts, The rules of art (Bourdieu 1996) and The field of cultural production (Bourdieu 1993), have set the grounds for a possible sociology of creativity, where genre and aesthetic position-takings only make sense within a structured setting of semi-autonomous activity. (Prior 2013)

Soos wat dit uit hierdie ondersoek aan die lig sal kom, is dit nie net popsterre wat gedurende die inperkingstyd sosiale media as “verhoog” gebruik het nie; selfs die onderhouers van die sogenaamde hoër kuns het hulle tot hierdie platforms gewend. Gevolglik is Richard Peterson en Roger Kern (1996) se benaderings tot smaakverskille waarin ruimte gelaat word vir die splitsing tussen omnivore en univore (“snobs”) ter sake vir hierdie artikel.

Die kulturele veld is gestruktureer rondom twee opponerende pole: die ekonomiese pool, waarin dit gaan oor die verkryging van ekonomiese kapitaal en waarin veral die media ’n belangrike rol speel, en die artistieke pool, waarin gestreef word na simboliese kapitaal as die kapitaal van erkenning (Bourdieu 1996b:5, 12, 19). Aangesien die dinamiese posisionering van agente ’n voortdurende kompetisie om beheer van die veld veronderstel, is dit belangrik dat musici kreatief te werk sal gaan om hul “produk” te laat uitstaan tussen die res. Nathalie Heinich (2000) se teorie van uitsonderlikheid, waarin individualiteit en buitengewoonheid die maatstawwe is waaraan sukses gemeet word, en die kriteria wat sy as waardebepalend vir kulturele erfgoed stel, vorm die uitgangspunt in hierdie induktiewe benadering. Hierdie waardebepalingskriteria word aangevul deur ook ander vektore in die herrangskikking en aanpassing van musieksmaak in ’n verbruikersgemeenskap by die ondersoek te betrek.

My bestudering van ander musici se reaksies as strategiese handelinge te midde van die pandemie en die ondervinding wat ek opgedoen het uit my eie reaksies op die nasionale inperking het my geïnspireer om dit wat ek geleer het, met ander musici te deel. Die rede hoekom ek my artikel (en my storie) as ’n persoonlike narratief aanbied, is dat hierdie spesifieke navorsingsmetodologie aan my die ruimte bied om aspekte van my persoonlike belewing met akademiese navorsing te kombineer op ’n wyse wat die vraagstukke – en veral moontlike oplossings en voorstelle – rondom hierdie aktuele onderwerp duidelik belig.

1.3 Metodologie: narratiewe navorsing

Die SPN- (Scholarly Personal Narrative-) metodologie val onder die sambreelterm narratiewe navorsing. As ’n oorkoepelende navorsingsmetode vertoon narratiewe navorsing volgens Creswell (2013:71–2) die volgende kenmerke:

  • Narratiewe navorsers versamel stories van individue en oor individue se belewenisse en hul vertellings daaroor. Aangesien die storie tot stand kom deur die interaksie of dialoog tussen die navorser en die deelnemer, is samewerking kenmerkend van hierdie tipe navorsing.
  • Narratiewe stories berig oor individuele belewenisse en kan lig werp op die identiteit van individue en hoe hulle hulself beskou.
  • Narratiewe stories word saamgestel uit verskillende vorme van data, soos onderhoude, maar ook deur waarneming, dokumente, foto’s en ander vorme van kwalitatiewe data.
  • Narratiewe stories word dikwels chronologies deur die navorser aangebied, al is dit nie in daardie volgorde deur die deelnemer oorgedra nie.
  • Narratiewe stories word op verskillende wyses ontleed. Die ontleding kan geskied op grond van wat gesê is (tematies) of die aard van die vertelling (struktureel). Voorts kan die dialoog of handeling van die persone aan wie die storie gerig is, ook ontleed word.
  • Narratiewe stories speel binne spesifieke plekke of situasies af.

In sy beskrywing van die algemene benadering wat in narratiewe navorsing gevolg word, verduidelik Creswell (2013:70) dat “[t]he procedures for implementing this research consist of focusing on studying one or two individuals, gathering data through the collection of their stories, reporting individual experiences, and chronologically ordering the meaning of those experiences”.

In my navorsing fokus ek nie net op my individuele belewing van en reaksie op die inperkings (situasie) nie, maar ook op medemusici asook skole se handelinge waaruit ek waardevolle lesse geleer het in my eie soeke na oplossings. Die musici wie se reaksies op dieselfde situasie ondersoek word, behoort almal tot dieselfde musiekgemeenskap, naamlik Bloemfontein (plekspesifiek). Aangesien dit ’n bepalende faktor is in die keuse van musiekaanbiedings, was ’n ondersoek na kulturele kapitaal (of smaak), wat nou verbonde is aan identiteit, aan die orde van die dag. In ooreenstemming met die eis dat narratiewe stories uit verskillende vorme van data saamgestel word, maak ek in die artikel gebruik van plasings op sosiale media, foto’s, video’s en e-pos-korrespondensie1 waarin die twee professionele musici op wie my ondersoek gerig is, gevra is om kommentaar op die onderstaande vrae te lewer:

  • Hoe het die inperking jou musiekbeoefening beïnvloed? Is daar byvoorbeeld baie optredes gekanselleer?
  • Het die inperking enige finansiële implikasies vir jou ingehou?
  • Wat was die beweegrede vir jou plasings op sosiale media?
  • Wat dink jy maak ’n musiekaanbieding op sosiale media uitsonderlik en wat stel jy as norme waaraan jou eie plasings moet voldoen?
  • Wat is jou gevoel oor finansiële vergoeding vir virtuele musiekaanbiedings?

My bevindinge word dan (induktief) met bestaande teorieë vergelyk.

Anders as wat dit die geval is in tipiese narratiewe studie, word kwalitatiewe metodes in hierdie artikel soms onvermydelik gemeng met kwantitatiewe benaderings en word paradigmagrense oorskry. Die rede hiervoor is dat die aantal kere wat musiekvideo’s geplaas is en die aantal kyke, houvans en kere wat die plasing gedeel is, belangrike aanduidings is van sigbaarheid op sosiale media én van smaak. In hierdie artikel word dus van triangulasie gebruik gemaak – ’n metode wat volgens Maree en Van der Westhuizen (2015:39‒40) se beskrywing daarvan betrekking het op die mate waartoe gevolgtrekkings wat op kwalitatiewe bronne gebaseer is, deur die kwantitatiewe perspektiewe ondersteun word en vice versa. Op grond van die data of inligting wat ingesamel word, word vrae gevra, identifiseer die navorser kategorieë en subkategorieë, word daar na patrone gesoek, en word hierdie patrone met ander teorieë vergelyk.

’n Narratief kan op verskeie wyses in akademiese skryfwerk geïnkorporeer word. Volgens Creswell (2013:70) kan dit betrekking hê op die verskynsel wat bestudeer word, byvoorbeeld as ’n narratief oor siekte, of andersins op die navorsingsmetode. Creswell verduidelik:

As a method it begins with the experiences as expressed in lived and told stories of individuals. […] The procedures for implementing this research consist of focusing on studying one or two individuals, gathering data through the collection of their stories, reporting individual experiences, and chronologically ordering the meaning of those experiences […].

Soos reeds genoem, word hierdie artikel as ’n persoonlike narratief aangebied en daarom is dit nodig om kennis te neem van die kenmerke van hierdie spesifieke narratiewe navorsingsmetode. 

  • Die SPN- (Scholarly Personal Narrative-) metodologie

Heidelberger en Uecker (2009) wys daarop dat die Engelse benaming, scholarly personal narrative, ’n gelykwaardige voorstelling is van die essensiële dele van hierdie navorsingsmetode: scholarly, op grond van die feit dat die metodologie van die persoonlike narratief ’n streng omlysting of raamwerk veronderstel ten einde die mees informatiewe en toepaslike elemente en temas van die persoonlike belewing te identifiseer; personal, omdat die navorser se agtergrond, persoonlike lewe, totale leefwêreld en die betekenis van sy/haar handelinge, keuses en waardes met betrekking tot die navorsingsveld ’n belangrike rol speel in hierdie navorsingsmetodologie; en narrative, omdat daar ’n storie aangebied word, eerder as ’n joernalistieke weergawe van gebeure. In die woorde van Heidelberger en Uecker (2009) sê die navorser in effek: “This is who I am and how I have created meaning. What do you think?”

In Suid-Afrika, en spesifiek Afrikaans, het daar nog nie baie akademiese uitsette in hierdie vorm verskyn nie.2 Die rede hiervoor is dat APA-styl-artikels selde vanuit ’n eerstepersoonsperspektief aangebied word:

We find that academic journal articles still read like, for the most part, academic journal articles, speaking in rigorous yet abstract language deliberately scrubbed of practical context and clear personal voice. Speaking of one’s own experiences and doing so in the first person is at least unusual, if not eyebrow-raising. (Heidelberger en Uecker 2009)

Afhangende van die spesifieke oogmerk, benadering en akademiese ingesteldheid van die navorser, bestaan die metodologie van die persoonlike narratief uit ’n kombinasie van outo-etnografie, lewensbeskrywing, persoonlike narratiewe essays en outobiografie (Nash en Bradley 2011:21). In ’n outo-etnografie word gefokus op die kulturele en kontekstuele invloede op ’n skrywer se selfrefleksie (Nash e.a. 2011:16). Daarteenoor word in ’n SPN meer spesifiek op die “reis” van die skrywer gefokus en word akademiese navorsing, persoonlike verhale en universele temas naatloos gekombineer (Nash e.a. 2011:24). Alhoewel daar ’n opvallende oorvleueling tussen outo-etnografie en SPN-navorsing is, is die doel van ’n SPN in die eerste plek om ’n impak op skrywer en leser, individu en gemeenskap te maak (Nash e.a. 2011:20–1).

Nash e.a. (2011:17) verduidelik ’n lewensbeskrywing as “literally a ‘mining of the writer’s memory’ of past events, people, and strong personal feelings. A SPN is less free-floating and anecdotal, and more scholarly and focused, than a memoir, although there is always overlap.” In ’n persoonlike narratiewe essay maak die wyse waarop die skrywer se eie storie vertel word, die ontleding en interpretasie van, en besinning oor ’n groter idee, gebeurtenis of belangrike figuur in die skrywer se lewe moontlik (Nash e.a. 2011:18). Aangesien kulturele en kontekstuele invloede uiteraard van groot belang is in my persoonlike reaksie op die uitdagings wat deur die pandemie as “gebeurtenis” teweeg gebring is, is hierdie artikel dus ’n kombinasie van outo-etnografie en ’n persoonlike narratiewe essay. Heidelberger en Uecker (2009) se stelling dat een van die oogmerke van die outobiografiese fokus in SPN ’n postmoderne benadering tot kenniskonstruksie is, plaas die onderhawige artikel in hierdie opsig (alhoewel tot ’n geringe mate) dus ook binne die kader van outobiografie.

Stewart (2020:162, 165, 169) identifiseer drie wyses waarop persoonlike ondervindings in akademiese skryfwerk geïnkorporeer kan word, naamlik as strukturele raamwerk, persoonlike verhaal as konteks (wanneer die navorsingsonderwerp en persoonlike ondervinding oorvleuel) en as ’n middel tot ontdekking. Volgens Stewart (2020:171) kan persoonlike narratiewe suksesvol gebruik word wanneer persoonlike ondervindings ’n passievolle opinie met betrekking tot die navorsingsonderwerp inspireer, wanneer persoonlike ondervindings deurlopend terug verwys na die sentrale idee van die navorsing, wanneer persoonlike ondervindings ’n sterk en uitgebreide metafoor vir die onderwerp verskaf, en wanneer persoonlike ondervindings, soos reeds genoem, bydra tot die daarstelling van ’n strukturele raamwerk vir die ondersoek.

1.4 Navorsingsontwerp: persoonlike narratief as bricolage

Persoonlike narratiewe word dikwels in die vorm van ’n bricolage aangebied. In breë trekke is dit ’n vorm van ondersoek wat die plooibare gebruik van uiteenlopende teoretiese en metodologiese hulpmiddels moontlik maak op maniere wat meer gemeen het met kuns en literatuur as met die natuurwetenskappe, maar wat tog ’n eie vorm van stiptheid vereis (Hammersley in Given 2008:65).

Die gebruik van die Franse terme bricolage en bricoleur in akademiese werk is deur Claude Lévi-Strauss bekendgestel en in navolging van hom word hierdie navorsingsontwerp – veral in meer onlangse tye – in kwalitatiewe navorsing gebruik. Lévi-Strauss (1962:11) verduidelik die terme soos volg:

In its old sense the verb “bricoler” applied to ball games and billiards, to hunting, shooting and riding. It was however always used with reference to some extraneous movement: a ball rebounding, a dog straying or a horse swerving from its direct course to avoid an obstacle. And in our own time the “bricoleur” is still someone who works with his hands and uses devious means compared to those of a craftsman.

Lévi-Strauss het hierdie begrippe in sy strukturele ontledings van mites gebruik om die produksie van mites as ’n vorm van bricolage uit te beeld: “Like ‘bricolage’ on the technical plane, mythical reflection can reach brilliant unforeseen results on the intellectual plane” (Lévi-Strauss 1962:11).

Hammersley (in Given 2008:65) verduidelik Lévi-Strauss se gebruik van bricolage as ’n navorsingsontwerp soos volg:

For him, the character of the bricolage that produces myths is somewhere between that of science and that of modern art. The central feature of myth as bricolage is that there is a drive to produce a complete picture from whatever intellectual resources are currently available.

In kwalitatiewe navorsing wat as bricolage aangebied word, word boustene naas mekaar gestel by wyse van die oop-einde-tegniek. Die doel hiervan is om lesers te prikkel eerder as om ’n geslote boodskap oor te dra (Hammersley in Given 2008:65):

[T]he “bricoleur” […] derives his poetry from the fact that he does not confine himself to accomplishment and execution: he “speaks” not only with things, […] but also through the medium of things: giving an account of his personality and life by the choices he makes between the limited possibilities. (Lévi-Strauss 1962:14)

Soos die titel aandui, bied hierdie artikel ’n verkenning van plaaslike musici se reaksies op die nasionale inperking. Die vraagstuk wat ondersoek word, hou verband met die wyses waarop musici hul sigbaarheid binne die kulturele veld kan bestendig. Aangesien die suksesvolle bemarking van enige kunsproduk gewoonlik die voldoening aan ’n behoefte (wat bestaan óf geskep word) én ’n unieke, uitsonderlike produk impliseer, word die ondersoek dus deur hierdie twee fokuspunte gerig. Aan die hand van die ontleding van sowel die gekose musici se virtuele musiekaanbiedings as die publiek se reaksies daarop, word ondersoek ingestel na kulturele kapitaal (en veral musiekvoorkeure) – ’n faktor wat uiteraard direk of indirek ’n groot invloed op die musiek- en kulturele bedryf uitoefen. Ook in die ondersoek na die voorkoms van bepaalde waardebepalingskriteria ‒ waarvan uitsonderlikheid een van die belangrikste maatstawwe is waaraan sukses gemeet word – is bemiddelingsprosesse tussen werke (musiekuitvoerings in hierdie geval) en gehore en die begrip interafhanklikheid van groot belang. Beide hierdie fokuspunte vra vir ’n navorsingsontwerp waarin daar, in ooreenstemming met die kenmerke van ’n bricolage, verskeie ondersoekstrategieë en datastelle betrek word.

 

2. Musici se reaksies as strategiese handelinge te midde van die inperkings

2.1 Bekendstelling van die musici in hierdie ondersoek

Die twee persone wat waarskynlik die grootste rol gespeel het in my eie soeke na maniere om my sigbaarheid as musikus gedurende die inperkingstyd te behou, is my duetmaat, Anton Esterhuyse (afgekort as AE), en een van my musiekleerlinge, Jandré Huygen (afgekort as JH). AE is ’n uitvoerende kunstenaar (pianis en fluitis), asook komponis en verwerker wat ’n BMus-graad aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf het, asook ’n sertifikaat in musiek (jazz) aan die Technikon Pretoria. Hy tree op as solokunstenaar, maar dikwels ook saam met ander kunstenaars as deel van ’n groep musikante. Hy is die musiekleier van die orkes en sangers by Universitas Geloofsentrum. Voorts is hy ook musiekregisseur van produksies. JH is ’n matriekleerling aan die Hoërskool Fichardtpark, waar hy musiek as een van sy skoolvakke neem. Hy is ook ’n lid van die skoolkoor en van ’n vokale ensemble, Die Park se Kêrels.

In hul keuse van virtuele musiekaanbiedings het sowel AE as JH hoofsaaklik op die verbruikers van populêre of stemmingsmusiek gefokus (later meer oor smaakklassifikasies). Aangesien ek egter ook ondersoek wou instel na die reaksies van musici wat die sogenaamde hoër (“highbrow”) musiekkuns beoefen, betrek ek nog ’n Bloemfonteiner, Anmari van der Westhuizen (afgekort as AvdW), by my ondersoek. In die keuse van watter rolspelers ek sou betrek, het ek simboliese kapitaal (sigbaarheid) en sosiale kapitaal as kriteria geneem. Eerstens het ek gekyk watter dosent(e) van die musiekdepartement van die Universiteit van die Vrystaat direk (of kort) na die aanvang van die nasionale inperking begin het om virtuele musiekaanbiedings op sosiale media te plaas en tweedens, wie oor die grootste sosiale kapitaal beskik. Dít is bepaal op grond van die sosiale netwerke waarvan die persoon deel is en die status wat as ’n uitvloeisel van daardie netwerke geniet word (kyk 3.3).

AvdW is hoof van die Odeion Strykkwartet en ’n medeprofessor aan die Odeion Skool vir Musiek (Universiteit van die Vrystaat), waar sy tjello onderrig. Sy het die grade BMus (cum laude) en BMus (Hons) (cum laude) aan die Universiteit Stellenbosch behaal, ’n Grosses Diploma (cum laude) aan die Mozarteum, Salzburg, en ’n PhD in uitvoerende musiek aan die Universiteit van Pretoria. As kamermusikus het sy al in Australië, Oostenryk, België, die Faroe-eilande, Duitsland, Hongarye, Italië, Japan, Pole, Spanje, Switserland, Turkye, die Verenigde Koninkryk, die VSA, Zambië en Zimbabwe opgetree. Sy was die stigterslid van die UCT Trio, die Collage Ensemble en I Grandi Violoncellisti (Ufs.ac.za s.j.a).

Figuur 1. Anton Esterhuyse
Foto verskaf

Figuur 2. Jandré Huygen
Foto verskaf

Figuur 3. Anmari van der Westhuizen
Bron: Ufs.ac.za: s.j.a

In sy verwysing na die verskillende rolspelers in die kulturele veld gebruik Bourdieu die term agent om enige (sosiale) rolspeler te beskryf (kyk bv. Bourdieu 1996a:13; 1993:43; kyk ook Bonthuys 2016:22). Die sosiale eienskappe waaroor individue beskik en wat hul gedrag rig, maar nie bepaal nie, word met die term habitus omskryf (Bourdieu 1993:70, 71; 1996b:13). ’n Agent se habitus is die gevolg van ’n langdurige proses van inprenting wat in die vroeë kinderjare begin en met verloop van tyd durende tweede natuur word (Johnson in Bourdieu 1993:5). Die reeks posisies wat opeenvolgens of gelyktydig deur dieselfde agent beklee kan word, soos by AE wat nie net ’n uitvoerende kunstenaar is nie, maar ook ’n komponis, verwerker, musiekregisseur en begeleier, en AvdW, wat ’n uitvoerende kunstenaar en musiekdosent is, word met die begrip trajek, wat een van die produkte van sy/haar habitus is, beskryf (Bourdieu 1996b:9–10; Johnson in Bourdieu 1993:18). Aan die begin van die pandemie was JH nog ’n graad 11-skoolseun. Deur die kennis en ondervinding wat hy hoofsaaklik deur selfstudie opgedoen het, is hy nou (2021), in sy matriekjaar hoogs in aanvraag as klanktegnikus en videograaf van musiekproduksies en het hy homself dus, sóós AE en AvdW, toegerus vir ’n trajek waarin hy opeenvolgens en soms gelyktydig verskillende rolle binne die kulturele veld beklee.

Alhoewel ek as ’n tydverdryf tydens die grendeltyd ’n eie komposisieprojek aangepak het, was my grootste uitdaging om as musiekonderwyseres aan Hoërskool Fichardtpark (afgekort as HFP) sigbaar te bly. Dit is uiters moeilik én frustrerend (vir sowel die onderwyseres as die leerling) om praktiese musieklesse digitaal te beoefen en gevolglik moes daar kreatief te werk gegaan word om leerlinge geïnspireerd te hou. Gedurende die tyd toe skole gesluit was, het musiekonderwysers dus dikwels gekyk na wat ander in die bedryf doen. Daarom betrek ek ook die twee ander Afrikaansmedium- gemengde skole in Bloemfontein, naamlik Hoërskool Jim Fouché (afgekort as HJF) en Hoërskool Sentraal (afgekort as HS), by my ondersoek. Aangesien daar in hierdie artikel gefokus word op musici se reaksies as (kreatiewe) strategiese handelinge te midde van die grendeltyd, is veral die tweede produk van ’n agent se habitus naamlik strategie, belangrik vir hierdie ondersoek. Die agent se strategie kan beskryf word as ’n spesifieke oriëntasie of praktyk en wat te make het met ’n agent se plan aangaande sy/haar trajek binne die kulturele veld (Bourdieu 1993:72–3; kyk ook Bonthuys 2016:23; Johnson 1993:18).

2.2 Toetrede tot die virtuele musiekverhoog

Toe president Cyril Ramaphosa op 15 Maart 2020 aankondig dat die COVID-19-krisis amptelik ’n nasionale ramp is (The Presidency Republic of South Africa 2020) en kort daarna, op 23 Maart 2020, ’n inperkingstydperk van 21 dae afkondig wat van 26 Maart tot 16 April 2020 sou strek (Brown 2020), was musici (en veral dié in die onderwysberoep) onder die indruk dat die Aprilvakansie maar net ’n bietjie vroeër begin het en dat normale werksaamhede teen middel-April hervat sou word.

Iemand wat wel voorsien het dat musici waarskynlik vir ’n lang tyd nie saam musiek sou kon maak nie, is my vriend AE. Geïnspireer deur ’n video waarin die Italiaanse lugmag in formasie vlieg en kleurspore in die groen, wit en rooi van hul nasionale vlag agterlaat terwyl ’n opname van Luciano Pavarotti se vertolking van “Nessun Dorma” gespeel word, wou AE ook iets opneem om Suid-Afrikaners gedurende die afsonderingstyd te bemoedig. Op 20 Maart 2020, kort voor die aanvang van die nasionale inperking, het hy ’n ensemble saamgestel wat, geklee in die kleure van ons eie landsvlag, ’n verwerking van die Suid-Afrikaanse volkslied opgeneem het. Dit was my eerste deelname aan ’n virtuele musiekaanbieding.

Oudiovisuele skakel 1. Die Italiaanse lugmag in vlug
Bron: Videos Club (2020)

Figure 4 en 5. Ensemble geklee in die kleure van die Suid-Afrikaanse vlag
Bron: Anton Esterhuyse-YouTube-video’s (27 Maart 2020)

Oudiovisuele skakel 2. Die volkslied van Suid-Afrika
Bron: Anton Esterhuyse-YouTube-video’s (27 Maart 2020)

Skielik was daar ’n ontploffing van virtuele musiekaanbiedings op sosiale media. Jane Wakefield (2020), ’n joernalis vir die BBC, skryf: “Lockdown has seen opera singers belt out arias from their balconies and families recreate entire musicals in their living rooms.” Talle internasionale kunstenaars, van Neil Young tot Pink, het vertonings vir hul aanhangers op sosiale media geplaas (Crowcroft 2020). Ook in Suid-Afrika het kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Mathys Roets en Amanda Strydom, om maar enkeles te noem, hulle tot hierdie platform gewend. Dit is egter nie net popsterre wat van hierdie nuwe manier van musiekbeoefening gebruik maak nie. Reeds vroeg in die pandemie het Rotterdam se Filharmoniese Orkes ’n reeks virtuele konserte aangebied – die eerste hiervan was ’n uitvoering van Beethoven se negende simfonie. Hierdie uitvoering (en soortgelykes) “looks and sounds artlessly simple, but in fact took ‘many, many hours of video editing’ […]. The musicians recorded their part of the piece with their own phones or webcams and then the recordings were merged using advanced video software” (Wakefield 2020).

Oudiovisuele skakel 3. AvdW en Estelle Revaz, ’n tjellis wat in Geneva, Switserland, woon en werk, se uitvoering van die eerste beweging van Joseph Bodin de Boismortier (1689‒1755) se vyfde sonate
Bron: Anmari van der Westhuizen-Facebook-blad (29 April 2020)

Oudiovisuele skakel 4. Unimus (AE se musiekgroep by die Geloofsentrum Universitas) se eerste poging tot selfoonsamesang en -spel
Bron: Anton Esterhuyse-Facebook-blad (3 Mei 2020)

JH se eerste virtuele musiekaanbieding was redelik elementêr: ’n opname waarin hy my toonsetting van Eugène Marais se gedig “Die towenares” sing.3 As begeleiding het hy die klankbaan van die Sibelius-rekenaarprogram waarop die musiek geskryf is, gebruik.

2.3 Virtuele musiekbeoefening deur skole – ’n reddingsboei

In aansluiting by internasionale kunstenaars en Suid-Afrikaanse sangers soos Steve Hofmeyr, Mathys Roets en Amanda Strydom het al hoe meer plaaslike musici en skole hulle tot virtuele platforms gewend. Veral ná die Departement van Basiese Onderwys se aankondiging dat leerlinge nie (soos aanvanklik beplan) op 14 April 2020 kon terugkeer skool toe nie (Dube 2020), was daar ’n merkbare toename in virtuele aanbiedings deur skole. Dit het saamgeval met ’n bykomende krisismoment in die onderwys: Gerugte het die ronde begin doen dat baie skole nie meer oor voldoende fondse beskik het om personeel wat deur beheerliggame aangestel is, se salarisse te betaal nie. Hierdie gerugte is later deur die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole (Fedsas) bevestig in ’n nuusberig (“Situasie benard vir beheerliggaam-onnies”, Herselman 2020) wat die werklike impak van die inperking voor my deur kom lê het:

Personeellede in skoolbeheerliggaamposte se situasie raak al hoe meer benard, ondanks die feit dat kinders in ál meer grade terugkeer skool toe. Daar is hoop dat die toename in leerlinge by die skole ’n styging in die betaling van skoolgeld sal meebring. Maar daar is egter nog nie ’n merkbare verbetering nie, sê vakbonde. Die virus het dalk reeds sy skade aangerig. […]. “Die feit dat die kinders terug is, beteken nie die ouers het hul werk terug of hul salarisse is beter daaraan toe nie,” sê Paul Colditz, voorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas). […] “Want die ouers gaan ook hul werk verloor en ’n inkorting van hul salaris hê. Dan is daar baie ouers wat argumenteer, omdat hul kinders nie by die skool is nie en hulle nie ’n diens kry nie, hoef hulle nie te betaal nie.” Skole het groot finansiële terugslae beleef. […] Daar was volgens Colditz voor die inperking sowat 150 000 mense landwyd in beheerliggaamposte, waarvan ongeveer 50 000 onderwysers is. Hy het nie die syfer van hoeveel mense in dié poste deur die pandemie geraak is nie. “Maar dat daar wel ’n inkorting van salarisse moes wees, dat mense wel hul poste sou verloor, dis vir seker so.”

Ek het besef dat ek, benewens om Zoom-lesse te gee (wat, soos reeds vermeld, uiters frustrerend is), iéts sou moes doen om die ouers te laat voel dat daar steeds ’n diens gelewer word wat vergoeding regverdig. Ek het begin om elke Vrydagaand ’n grendelkonsert op ons musiekleerlinge en -ouers se WhatsApp-groep te hou. Dit het behels dat leerlinge om presies 18:00 ’n selfoonvideo kon plaas. Daar was geen “reëls” nie en die musiek kon van enige genre wees. Hierdie konserte het weeklikse hoogtepunte geword in die huisgebonde huishoudings met gesinne wat dit selfs op hul groot televisieskerms gekyk het terwyl daar verversings geniet is. Spoedig was daar versoeke van familielede en vriende wat ook na die “konserte” wou kyk. Gevolglik het ek die instellings van die groep verander en alle leerlinge en hul ouers “admins” gemaak sodat hulle self nog “konsertgangers” kon byvoeg. Sommige aande was daar tot soveel as 250 mense wat na die video’s gekyk het. Die kommentaar wat ná die “konsert” op die groep verskyn het, was ’n groot bron van inspirasie vir die leerlinge. Oor ’n tydperk van ongeveer vier maande is daar elke Vrydag ’n konsert gehou. Die musiekdepartement se sigbaarheid is verder uitgebrei deur ’n artikel wat op 5 Augustus 2020 in Volksblad verskyn het (“Leerlinge oefen hard vir weeklikse aanlyn konserte”; kyk Britz 2020). Hoogtepunte uit die konserte is op die skool se Facebook-blad geplaas (kyk Hoërskool Fichardtpark-Facebook-blad). Benewens selvideo’s wat leerlinge tuis gemaak het, het die leerlinge intussen begin werk aan ’n massa-item (waarin van die ouers ook opgetree het). Met JH aan die stuur kon HFP op 22 Mei 2020 ook ’n video die lig laat waarin verskillende selvideo’s in een item saamgevoeg is.

Oudiovisuele skakel 5. Só lyk en klink die musiekdepartement van HFP in die grendeltyd: “Heal the world”
Bron: Hoërskool Fichardtpark-Facebook-blad (22 Mei 2020)

Geleidelik het JH begin om meer professionele opnames en video’s te maak. Nadat die musiekdepartement ’n borgskap van die Kunstetrust ontvang het, is ’n video gemaak van AE se komposisie “Hy het gekom vir jou”. Vir hierdie video het JH elke instrumentalis en sanger in sy slaapkamer opgeneem en later al die kamerawerk self gedoen.

Figure 6 en 7. JH besig om die tjelloparty van “Hy het gekom vir jou” op te neem
Die tjellis is Kornelia von Eschwege, ’n dosent aan die Universiteit van die Vrystaat.
Bron: Eie argief

Oudiovisuele skakel 6. “Hy het gekom vir jou”
Bron: Jandré Huygen-YouTube-blad (12 Desember 2020)

2.4 ’n Drastiese toename in virtuele musiekaanbiedings deur plaaslike musici

’n Vergelykende ondersoek na die aantal virtuele musiekaanbiedings wat gedurende die tydperk van 25 Maart 2019 tot 25 Maart 2020 teenoor die ooreenstemmende tydperk van 26 Maart 2020 tot 20 Maart 2021 deur die rolspelers in hierdie ondersoek geplaas is, het die onderstaande resultate opgelewer.

Grafiese voorstelling 1. Virtuele musiekaanbiedings gedurende die tydperke 25 Maart tot 25 Maart 2020 en 26 Maart tot 20 Maart 2021

Grafiese voorstelling 1.1. Virtuele musiekaanbiedings deur AE
Bron: Anton Esterhuyse-Facebook-blad (s.j.); Anton Esterhuyse Events-Facebook-blad (s.j.);
Anton Esterhuyse-YouTube-video’s (s.j.); Anton Esterhuyse Productions-YouTube-video’s (s.j.)

Grafiese voorstelling 1.2. Virtuele musiekaanbiedings deur AvdW
Bron: Anmari van der Westhuizen-Facebook-blad (s.j.)

Grafiese voorstelling 1.3. Virtuele musiekaanbiedings deur Hoërskool Fichardtpark
Bron: Hoërskool Fichardtpark-Facebook-blad (s.j.); Jandré Huygen-YouTube-blad (s.j.)

Grafiese voorstelling 1.4. Virtuele musiekaanbiedings deur Hoërskool Jim Fouché
Bron: Hoërskool Jim Fouché-JF TV (s.j.)

Grafiese voorstelling 1.5. Virtuele musiekaanbiedings deur Hoërskool Sentraal
Bron: Hoërskool Sentraal-Facebook-blad (s.j.); digitv (2020)

Uit die bostaande datastel kan afgelei word dat daar veral in die geval van AE ’n groot toename in die plasing van musiekvideo’s was. Alhoewel die persentasie toename in die geval van die skole op die oog af nie so groot is nie, weerspieël dit nie die ware toedrag van sake nie. Al die video’s wat gedurende die tydperk van 25 Maart 2019 tot 25 Maart 2020 deur hierdie instellings op sosiale platforms geplaas is, was uittreksels uit konserte wat as bemarkingstrategieë deur die onderskeie skole gedeel is, terwyl die video’s wat gedurende die inperkings geplaas is, onder totaal ander omstandighede geskep is en spesifiek as virtuele musiekaanbiedings geplaas is. Metafories gestel het die “vermindering” (inperking) wat deur die pandemiemaatreëls teweeggebring is, dus aanleiding gegee tot ’n waarneembare toename in virtuele musiekaanbiedings.

 

3. Die dryfveer agter musici se handelinge tydens die inperking

Vir al die rolspelers in hierdie ondersoek was die toetrede tot die virtuele musiekwêreld die middel tot die verkryging van een of ander vorm van kapitaal. Bourdieu se literêreveldteorie (wat, soos reeds genoem, ook van toepassing is in hedendaagse musikologiese studies) verskaf ’n analitiese model waarbinne enige sosiale formasie by wyse van ’n rangordelike, georganiseerde reeks velde (soos die ekonomiese veld, die opvoedkundige veld, die politieke veld en die kulturele veld) gestruktureer word. Elkeen van hierdie sosiale formasies word beskryf as ’n gestruktureerde ruimte met sy eie reëls ten opsigte van die funksionering daarvan:

A field of possible forces exercised on all bodies entering it, the field of power is also a field of struggle, and may thus be compared to a game: the dispositions, that is to say the ensemble of incorporated properties, including elegance, facility of expression or even beauty, and capital in its diverse forms – economic, cultural, social – constitute the trumps which will dictate both the manner of playing and success in the game […]. In this game which is the field of power, the stakes are evidently power which must be conquered or maintained, and those who enter it can differ in two relations: firstly, from the standpoint of inheritance, which means advantages; secondly, from the viewpoint of the disposition of the heir in relation to it, which means the “will to succeed”. (Bourdieu 1996b:10)

3.1 Sigbaarheid: simboliese kapitaal

Volgens AE (Esterhuyse 2020) sou virtuele musiekuitvoerings aanvanklik ’n manier wees om sy naam aan ’n wyer gehoor bekend te stel en met 474 virtuele musiekaanbiedings sedert die begin van die nasionale inperking het hy beslis sy sigbaarheid binne die Bloemfonteinse musiekgemeenskap (en selfs wyer) verseker. In terme van die aantal virtuele musiekaanbiedings was AvdW aansienlik minder sigbaar. As rede hiervoor noem sy dat sy “nie die kollig [wou] steel van arme vryskut musici om ’n bestaan te maak nie” en daarom het sy haar maar skaars gehou. “Ek het wel deelgeneem aan versoeke van internasionale kunstenaars om saam te werk.” As hoof van die Odeion Strykkwartet noem Van der Westhuizen dat die kwartet se plasing van die volkslied van Suid-Afrika daarop gemik was “om UV as universiteit op die kaart te plaas” (Van der Westhuizen 2020).

Oudiovisuele skakel 7. Die Odeion Strykkwartet se uitvoering van die nasionale volkslied
Bron: Anmari van der Westhuizen-Facebook-blad (1 Junie 2020)

Gedurende die grendeltyd is AvdW se sigbaarheid uitgebrei deur die bywoning van die Universiteit van Kaapstad se Chamber Studio-webinaar waar daar onder andere gesels is oor die toekoms van kamermusiek en oor Gabor Takasz se trajek as lid van ’n strykkwartet. Voorts het sy webinare bygewoon wat deur die Universiteit van die Vrystaat aangebied is (Van der Westhuizen 2020).

Die wyse waarop prestige aangebied word, of die middele waardeur ’n persoon sy/haar fisiese of sosiale realiteit skep, word deur Bourdieu (1993:75) se begrip simboliese kapitaal beskryf. In die verkryging van simboliese kapitaal speel die kunstenaar se prestige, roem en verering ’n belangrike rol (kyk ook Johnson in Bourdieu 1993:7; Bonthuys 2016:24) en daarom is dit belangrik dat agente op ’n aktiewe wyse vertroue in die waarde van hul kuns sal vestig. In die teenstrydigheid wat daar tussen die mark en die veronderstelde “waarde” van ’n kunsproduk bestaan, identifiseer Heinich (2009:5–6) die behoefte aan ander vorme van erkenning: “the need for an adequate system for the ‘estimation’ of the quality of the work as well as for a process serving to determine an appropriate level of ‘esteem’ to be granted to the work’s creator”. Hierdie stelling verklaar die behoefte wat daar by AE en AvdW opgemerk is, naamlik ander vorme van erkenning.

Heinich (2009:5–6) wys op drie vervlegte eienskappe van erkenning, naamlik verpersoonliking, temporaliteit en bemiddelingsprosesse.

  • Verpersoonliking

Verpersoonliking het betrekking op die verband tussen mense en hul werk:

Vocational activities rely on the strong implication of personhood in one’s work. They thus foster proximity, if not inseparability, between work and person […]. While a tradesman might not feel deeply offended if someone questioned the price of a product, creators or authors who feel they exercise a vocation often appear to consider that any minimization of the value of their work constitutes a mark of low regard, a lack of respect for the maker and a personal disqualification. This property accounts for the legendary sensitivity of artists and authors to criticism. Some may interpret this sensitivity as a kind of “susceptibility” or “vanity”, but it is first of all a consequence of the strong affective involvement of creators in their work and also of the concomitant interplay of evaluations of their work with their identity as creators. (Heinich 2009:6)

As voorbeeld van verpersoonliking kan genoem word die verwantskap tussen die prys van ’n kaartjie om toegang tot ’n musiekaanbieding te kry en die vlak van erkenning wat die musikus geniet. As een van die redes waarom AvdW haar maar “skaars gehou” het en eerder deelgeneem het aan versoeke van internasionale kunstenaars om saam te werk, stel sy dit dat sy nie die verwagting wou skep dat sy bereid was om sonder vergoeding op te tree nie en dat sy steeds respek vir haar kunsbeoefening wou afdwing (Van der Westhuizen 2020). Sommige hoogaangeskrewe musici, waaronder die Steinway-pianis Christopher Duigan, se beskouing oor vergoeding vir kunstenaars wat in aanlynkonserte optree, is egter in teenstelling met dié van Van der Westhuizen:

The challenge is of course earning an income through the online medium. Duigan is clear that he wants to continue to offer the concerts for free – and invites audiences to make a donation if they are able, but the financial implications of his concert series is difficult, especially as there are costs involved in creating the concerts. “I hope to find a way to make the numbers work as I intend to continue. In fact, if feels as though I am just getting started!” (Christopher Duigen’s Music Revival 2020)

  • Temporaliteit

My ondersoek na die aspek van temporaliteit, wat volgens Heinich (2009:7) betrekking het op die komplekse dinamiek van tydsraamwerke, het ’n interessante verskynsel ten opsigte van die tydsverspreiding in die plasing van musiekvideo’s aan die lig gebring.

Tabel 1. Tydsverspreiding van plasings

In al die gevalle, met die uitsondering van HJF, is die meeste video’s in September 2020 geplaas. As gekyk word na watter inperkingsregulasies gedurende daardie tydperk gegeld het, sien ons dat Suid-Afrika om middernag op 17 Augustus 2020 oorgeskuif het na vlak 2 van die nasionale inperking (Maroela Media 2020) en vanaf middernag op 20 September 2020 na vlak 1 (Janse van Rensburg 2020). ’n Oorsig oor die waarskuwingsvlakke gedurende daardie tydperk toon aan dat bemiddelingsprosesse onder vlak 2 en later vlak 1 moontlik was, dit wil sê dat kunstenaars en instellings meer toegang tot tegniese hulp gehad het, soos wat byvoorbeeld die geval was by AE wat die Anton & Vrinne-produksie deur professionele tegnici laat opneem het en HS wat van digitv gebruik gemaak het.

Figuur 8. Opsomming van waarskuwingsvlakke
Bron: Netwerk24 (2020)

Met betrekking tot die dinamiek van tydsraamwerke was daar nog ’n interessante verskynsel: Van al HFP se plasings het die video van “I’m dreaming of a white Christmas” wat op Kersdag 2020 geplaas is, by verre die meeste reaksies ontlok (in terme van die aantal kyke en kere wat dit gedeel is; kyk Hoërskool Fichardtpark-Facebook-blad 25 Desember 2020). Veralgemenende afleidings kan nooit op grond van slegs een geval gemaak word nie, maar in hierdie geval het die ooreenstemming tussen genre (Kerslied) en tyd (Kersdag) moontlik wel ’n rol in die aantal kyke gespeel.

Alhoewel die aantal kyke vir AE ’n aanduiding is van hoe baie mense aanklank vind by sy musiek en hy die waarde van terugvoer (positief en negatief) erken, is sy musiekbeoefening in die eerste plek roepingsgeoriënteerd. Heinich (2009:4) beskryf roepingsgerigte aktiwiteite (“vocational activities”) soos volg: “In the arts, this fundamental and very specific property is sometimes called ‘art for art’s sake’.” In roepingsgeoriënteerde aktiwiteite gaan dit “from having (lands, inherited property, an ancestral name) to doing (an intellectual or artistic work) and, at the same time, from being to doing and from inner life to outer life […]” (Heinich s.j.). AE is deeglik bewus van die belang wat temporaliteit (toekomsgerigtheid) in erkenning speel: “[A]an die einde van die dag [sic] gaan dit vir my oor hoeveel mense bereid is om saam met my te werk en hoeveel mense gereelde kliënte raak a.g.v. die kwaliteit van werk wat ek lewer. Dit is juis laasgenoemde wat help om dinge finansieel stabiel te maak” (Esterhuyse 2020). Hierdie reaksie is in ooreenstemming met Heinich (2009:6–7) se waarnemings dat die temporaliteit in roepingsgeoriënteerde aktiwiteite eerder op die toekoms as op die hede gerig is en dat artistieke goedere, in teenstelling met gewone goedere, wat hoofsaaklik op grond van materiële bestaansduur of trefkrag gewaardeer word, veronderstel is om ’n gehoor ver verby die onmiddellike mark te bereik.

  • Bemiddelingsprosesse

Aangesien musikante tydens die inperking nie in konsertsale kon optree nie, maar op platforms waar die visuele aspek ook van groot belang is, was AE deeglik bewus van die belang van samewerking met bekwame klanktegnici en videograwe as bemiddelingsmedewerkers in virtuele musiekbeoefening. Met betrekking tot sy rol as musiekleier by die Universitas Geloofsentrum het alles oor die internet gebeur. Musikante het hul bladmusiek en ’n gidssnit per WhatsApp ontvang en dan hul parte met hul selfone opgeneem. Daarna is alles deur ’n tegniese span saamgesit. Daar was dus sprake van pre- en postproduksie. Voor die pandemie sou alles net voor ’n diens geoefen en ingestel word (en dan ook lewend op YouTube en Facebook uitgesaai word) (Esterhuyse 2020). Sonder die bemiddeling van JH sou die musiekdepartement van HFP ook nooit so sigbaar op sosiale media gewees het nie. Nege van die 15 video’s wat op die skool se Facebook-blad geplaas of gedeel is, is deur hom geskep. Hierdie bemiddelingsreaksies sluit aan by die institusionele benadering waarin daar van die standpunt uitgegaan word dat die spesifieke waarde wat aan kuns toegeken word, die resultaat is van die interaksie tussen verskillende rolspelers in die veld (Van Rees en Dorleijn 1993:1).

Volgens Heinich (2009:7) is dit veral wanneer die aktiwiteit outonoom van aard is en die waarde daarvan aan uitsonderlikheid gekoppel word dat bemiddelingsprosesse tussen werke (musiekuitvoerings in hierdie geval) en gehore en die begrip interafhanklikheid van groot belang is: “We certainly depend on those who have the power to recognize us, but this power is itself subordinate to our capacity to recognize it as relevant.” In haar ondersoek na erkenning kom Heinich tot die slotsom dat interafhanklikheid meer toepaslik as dié van mag, dominansie en legitimasie is. Terwyl talle ontleders, veral deur die lens van Amerikaanse multikulturalisme en demokratiserende teorieë, erkenning as ’n vorm van respek beskou, ag Heinich dit eerder as ’n saak van agting: “[E]steem […] stresses the antagonistic, competitive and unequal dimensions of recognition. […]. Without this very dimension of esteem, one could not understand why an award inevitably raises such problems of justice and envy.” Heinich verduidelik dat die idee van respek (waardigheid) meestal aan wette en waardes, en aan persoonlike of kollektiewe identiteit (burgerskap, geslag, ras, geloof, ens.) verbonde is, terwyl die idee van agting eerder op werklike interaksies en feite dui, soos wat dit in die sfeer van roepingsgerigte aktiwiteite na vore kom: “Far from aiming at equality, artistic, literary and scientific worlds are strongly sustained by a need to rank orders of greatnesses: that is, an individualistic and meritocratic mode of recognition, instead of a collective and egalitarian one.” Op die vraag of erkenning ’n saak van respek (soos in die vraag na burgerlike regte) of eerder van agting is (soos in die geval van prystoekennings), antwoord Heinich (2009:21–2) dat respek op die fundamentele waardigheid van elke mens betrekking het, dat dit enige vormvergelyking te bowe gaan en (soos morele waardes) in onbeperkte hoeveelhede beskikbaar is. Hierteenoor is agting aan vergelyking onderworpe en kan dit in beperkte hoeveelheid uitgedeel word.

3.2 Kulturele kapitaal 

Volgens AE (Esterhuyse 2020) is sy musiekkeuse bepaal deur die tipe gehoor wat hy wou bereik en was dit vir hom belangrik dat die mense dit moes geniet. In AvdW se geval is die musiekkeuses gerig deur versoeke van internasionale kunstenaars, deur persone wat verantwoordelik is vir die repertoriumkeuse van die Vrystaat Jeugsimfonie-orkes en die Odeion Strykkwartet sowel as deur komposisies wat aan haar opgedra is (Anmari van der Westhuizen-Facebook-blad). Terwyl die leerlinge van HS werke opgeneem het wat deel uitmaak van hul eksamenrepertorium (Hoërskool Sentraal-Facebook-blad; Digitv 2020), het die leerlinge van HJF en HFP (met die uitsondering van die massa-items wat deur die onderwyseres gekies is) vrye teuels gehad in hul keuses (Hoërskool Fichardtpark-Facebook-blad; Hoërskool Jim Fouché-JF TV).

As verbruikers van musiekwerke het luisteraars se musieksmaak direk of indirek ’n groot invloed op die musiek- en kultuurbedrywe. Die sosiale vaardighede, spraakpatrone, opvoeding en mense se smaak wat op grond van die habitus en posisie in die samelewing verkry word, staan bekend as kulturele kapitaal (kyk Bourdieu 1996a:12–16; 1996b:57, 110, 122; Johnson in Bourdieu 1993:5).

3.2.1 Beskouings rakende musiekvoorkeure

  • Plato en Aristoteles

Sowel Plato as Aristoteles gee besondere aandag aan die rol van opvoeding in die vorming van musiekvoorkeure. In Republic skryf Plato (Bloom-vertaling 1968:80) die volgende:

[I]sn’t this why the rearing in music is most sovereign? Because rhythm and harmony most of all insinuate themselves into the inmost part of the soul and most vigorously lay hold of it in bringing grace with them; and they make a man graceful if he is correctly reared, if not, the opposite. Furthermore, it is sovereign because the man properly reared on rhythm and harmony would have the sharpest sense for what’s been left out and what isn’t a fine product of craft or what isn’t a fine product of nature. And, due to his having the right kind of dislikes, he would praise the fine things, and, taking pleasure in them […]

Aristoteles (Jowett-vertaling 1885:252) se beskouing van opvoeding is in ooreenstemming met dié van sy leermeester, Plato:

Since then music is a pleasure, and virtue consists in rejoicing and loving and hating aright, there is clearly nothing which we are so much concerned to acquire and to cultivate as the power of forming right judgements, and of taking delight in good dispositions and noble actions.

Kozlovskiy en Tkachuk (2018:38) wys daarop dat musiek en musikale praktyke gedurende die middel van die 20ste eeu een van die sentrale ondersoekterreine in sosiologiese navorsing was. Dit sluit in die werk van Adorno wat in sy publikasie Introduction to the sociology of music (1976) van die standpunt uitgaan dat daar ’n verband tussen musieksmaak en die sosiodemografiese eienskappe van luisteraars bestaan. Gedurende die 1970’s was musieksmaak een van die fokuspunte in Pierre Bourdieu se navorsing, terwyl die tweede moderne benadering tot die bestudering van musieksmaak gedurende die 1990’s deur onder meer Richard A. Peterson en Roger M. Kern ontwikkel is. Soos reeds in afdeling 1.2 vermeld, is veral die beskouings van Bourdieu, Peterson en Kern ter sake vir hierdie artikel.

  • Pierre Bourdieu

Gebaseer op uitgebreide empiriese datastelle interpreteer Bourdieu musikale en kulturele smaak (kulturele kapitaal) as die sigbaarmaking van habitus. Volgens Bourdieu (1996a:12–6) is daar dus ’n verband tussen klasstruktuur, opvoeding en smaak. Hy identifiseer drie sones van smaak wat, volgens hom, “roughly correspond to educational levels and social classes”: Eerstens is daar die behoefte aan die sogenaamde hoër kuns (of eksklusiewe smaak) soos J.S. Bach se Das wohltemperierte Klavier of sy Die Kunst der Fuge, of Ravel se klavierkonsert vir linkerhand. Volgens Bourdieu neem hierdie vorm van smaak toe in ooreenstemming met die vlak van opvoeding en is die hoogste voorkoms daarvan in die dominante sosiale klas wat die rykste aan kulturele kapitaal is. In die tweede plek verwys Bourdieu na “middlebrow” smaak,5 “which brings together the minor works of the major arts”. As voorbeelde van middlebrow-musiek word genoem Gershwin se “Rhapsody in blue”, Brahms se “Hongaarse rapsodie” en die musiek van die Franse sangers Jacques Brel and Gilbert Bécaud. In die laaste instansie is daar populêre smaak, wat betrekking het op ’n voorliefde vir sogenaamde ligte musiek of klassieke musiek wat gedevalueer word op grond van die populariteit daarvan. Voorbeelde van laasgenoemde is Johann Strauss II se “An der schönen blauen Donau”, Giuseppe Verdi se opera La Traviata en Georges Bizet se L'Ariesienne-suite. Hierdie tipe musiek val, volgens Bourdieu, veral binne die smaak van die werkersklas.

Op grond van Bourdieu se klassifikasie val al die aanbiedings wat AE, HJF en HFP (met die uitsondering van die uitvoering van “There sleeps Titania” deur William Alwyn) op sosiale media geplaas het, binne die kategorie van populêre smaak. Alhoewel beide die AE-ensemble en die Odeion Strykkwartet, waarvan AvdW lid is, se uitvoering van die volkslied van Suid-Afrika deur “klassieke musici” op hoofsaaklik simfoniese instrumente gedoen is, val dit op grond van die gewildheid daarvan ook binne hierdie kategorie. Virtuele musiekvideo’s wat binne die kader van die sogenaamde hoër kuns val, is AvdW se plasings van Camille Saint-Saëns se Tjellokonsert no. 1 in A mineur, Joseph Bodin de Boismortier se 5de sonate (saam met Estelle Revaz) asook Shane Woodborne se komposisie “Goodbye for five violoncelli”. Voorts val die genoemde klavierkomposisie van Alwyn en die plasings van HS, wat insluit “The devil’s drill” (Guiseppi Tartini), “Fantasiestücke” (Robert Schumann), “Three minute sonate” (Gary Schocker) en verskeie opera-arias binne hierdie kategorie.

Grafiese voorstelling 2. Smaakverspreiding volgens Bourdieu se klassifikasie

Grafiese voorstelling 2.1. Smaakverspreiding in die musiekaanbiedings van AE

Grafiese voorstelling 2.2. Smaakverspreiding in die musiekaanbiedings van AvdW

Grafiese voorstelling 2.3. Smaakverspreiding in die musiekaanbiedings van Hoërskool Fichardtpark

Grafiese voorstelling 2.4. Smaakverspreiding in die musiekaanbiedings van Hoërskool Jim Fouché

Grafiese voorstelling 2.5. Smaakverspreiding in die musiekaanbiedings van Hoërskool Sentraal

Alhoewel Bourdieu se veldteorie ’n nuttige analitiese model verskaf waarbinne smaakverskille by wyse van ’n rangordelike, georganiseerde reeks velde ondersoek kan word, is dit tog nie bo kritiek verhewe nie. Een van die besware is dat Bourdieu se teorieë oor die homologie van klas, habitus en smaak nie rekening hou met die beskouing dat hoër-opgeleide persone geneig is tot kulturele “omnivoor”-gedrag nie (Van Coller 2011:72). Hierdie tipe gedrag is veral waar te neem in die musiekbeoefening van AE wat as klassiek-opgeleide musikus hoofsaaklik ligte musiek produseer.

  • Richard A. Peterson en Roger M. Kern

Soos in die geval van Bourdieu word Peterson en Kern se benadering gerig deur vraagstukke met betrekking tot ongelykhede en status, maar anders as by Bourdieu is dit gebaseer op die splitsing tussen omnivore en univore (“snobs”) en laat dit dus ruimte vir verskeie kultuuruitinge: “Among highbrows, the snob is one who does not participate in any lowbrow or middlebrow activity […] while the omnivore is at least open to appreciating them all” (Peterson en Kern 1996:901).

Peterson en Kern (1996:901) tref ’n onderskeid tussen “middlebrow” en “lowbrow” vorme van kuns “because they are distinctly different and because critical observers have suggested that when highbrows are open to non-highbrow art forms, they seek out lowbrow forms created by socially marginal groups (Blacks, youth, isolated rural folks) while still holding commercial middlebrow forms in contempt”. Vyf musiekgenres word deur Peterson en Kern (1996:901) as “lowbrow” beskryf: countrymusiek, bluegrass, gospel, rock en blues. Elkeen van hierdie genres is marginaal ten opsigte van etnisiteit, streek, ouderdom of godsdiens. Wat “middlebrow” musiek betref, word drie genres onderskei: stemmings- of maklik luisterbare musiek, Broadway-musiekspele en big band-musiek. Regdeur die 20ste eeu was hierdie genres die hoofstroom van kommersiële musiek.

Wanneer Peterson en Kern se klassifikasie as uitgangspunt geneem word, is daar ’n kategorieverskuiwing in veral AE, HFP en HJF se plasings en sien die verspreiding soos volg daar uit.

Grafiese voorstelling 3. Smaakverspreiding volgens Peterson en Kern se klassifikasie

Grafiese voorstelling 3.1. Smaakverspreiding in die musiekaanbiedings van AE

Grafiese voorstelling 3.2. Smaakverspreiding in die musiekaanbiedings van AvdW

Grafiese voorstelling 3.3. Smaakverspreiding in die musiekaanbiedings van Hoërskool Fichardtpark

Grafiese voorstelling 3.4. Smaakverspreiding in die musiekaanbiedings van Hoërskool Jim Fouché

Grafiese voorstelling 3.5. Smaakverspreiding in die musiekaanbiedings van Hoërskool Sentraal

Grafiese voorstellings 2.3, 2.4, 2.5, 3.3, 3.4 en 3.5 toon dat hierdie twee klassifiseringsraamwerke (Bourdieu; Peterson en Kern) merkbare verskille in die smaakvoorkeure (of kulturele kapitaal) tussen HFP en HJF aan die een kant en HS aan die ander kant uitwys. Die meeste die Sentraalleerlinge wat in musiekvideo’s opgetree het, speel orkesinstrumente of beoefen “klassieke” sang (Digitv 2020). In teenstelling met sowel HFP as HJF, waar daar net een musiekonderwyser is en die onderrig hoofsaaklik gefokus is op klavier, sang, musiekteorie en musiekgeskiedenis, het HS ’n musiekakademie waar onderrig in ’n verskeidenheid instrumente aangebied word. Die musieksmaak by die verskillende skole kan in verband gebring word met Bourdieu (1996a:23) se beskouing dat die skool nie slegs ’n rol speel in die verwerwing van akademiese vaardighede nie, maar ook bydra tot die verwerwing van kulturele kapitaal:

Through its value-inculcating and value-imposing operations, the school also helps (to a greater or lesser extent, depending on the initial disposition, i.e., class of origin) to form a general, transposable disposition towards legitimate culture, which is first acquired with respect to scholastically recognized knowledge and practices but tends to be applied beyond the bounds of the curriculum, taking the form of a “disinterested” propensity to accumulate experience and knowledge which may not be directly profitable in the academic market. (Bourdieu 1996a:23)

Onderrig in orkesinstrumente is duur, en alhoewel dit gedeeltelik deur die skool gesubsidieer word, is die ouers self verantwoordelik vir die vergoeding van hierdie onderwysers. Ook in hierdie opsig is daar dus sprake van ’n homologie tussen velde:

In the case of activities like the visual arts, or playing a musical instrument, which presupposes a cultural capital generally acquired outside the educational system and (relatively) independent of the level of academic certification, the correlation with social class, which is again strong, is established through social trajectory (which explains the special position of the new petite bourgeoisie). (Bourdieu 1996a:14)

Alhoewel musici (en instellings soos skole), in hul strewe na sukses, rekening moet hou met verbruikersbehoeftes (waarin smaakvoorkeure uiteraard ’n groot rol speel; kyk afdeling 1.4), is dit nie die enigste maatstaf vir sukses nie. In haar kunssosiologie van “die uitsonderlike”, wat gebaseer is op die kunstenaarsmodel van die Romantiek, stel Heinich (2000:161), soos reeds genoem, individualiteit en buitengewoonheid as die maatstawwe waaraan sukses gemeet word en onderstreep sy die belang van die artistieke gebeurtenis:

The cultural world – meaning here the world of art and literature – is filled with events. […] Some events recur periodically in cultural life: Salons de peinture, book fairs, theatre, film festivals. Others, conversely, depend on exceptional occasions, becoming eventful owing to their rarity or even uniqueness […]. Some events usher in a new era […]. (Heinich 2000:159)

3.2.2 Die artistieke gebeurtenis

Ten einde die verband tussen gebeurtenisse en die kulturele wêreld, asook die aard van kunswerke te verstaan, is dit belangrik om die begrippe outografies en allografies onder die loep te neem. Heinich (2000:160) verduidelik dat outografiese kunswerke betrekking het op unieke kunswerke waarvan enige reproduksie wat die naam van die skrywer dra (“a unique occurring work”), vals is. Dit is veral die geval in die visuele kunste. Allografiese kunswerke is kunswerke bestaande uit voorstellings wat ’n oneindige aantal kere gereproduseer kan word sonder dat die waarde of outentisiteit daarvan verlore gaan (“multiply [sic] occurring work”). Musikale werke is dus sowel allografies (ooreenkomstig ’n partituur wat aan die publiek aangebied word) as outografies (die uitvoering self wat nooit identies gereproduseer kan word nie). Hierdie temporale veranderlike is ’n belangrike eienskap van die artistieke wêreld, “no longer depending on the nature of the works […] but the period” (Heinich 2000:161).

In sy besinning oor temporale veranderlikes in die kulturele wêreld spreek die strukturalis Juri Lotman (2009:12) die mening uit dat kultuur ’n komplekse geheel is, bestaande uit elemente wat teen verskillende tempo’s ontwikkel. Volgens hierdie beskouing is daar gelyktydig verskillende stadia aanwesig: “Explosions in some layers may be combined with gradual development in others.” Hiervolgens beklee geleidelike en ontploffende prosesse ’n gelykwaardige rol binne ’n sinchroniese struktuur deurdat sommige prosesse afwisseling en ander vernuwing of verandering tot gevolg het, soos wat die geval was met plaaslike musici se virtuele musiekbeoefening: “Each ‘great’ event not only opens new pathways but also intercepts a whole host of future possibilities” (Lotman 2009:60). Op grond van die “surplus of energy to be invested […] in order to secure a successful marketing of faces and signatures” kan hierdie “becoming eventful” (Berensmeyer s.j.) as ’n artistieke gebeurtenis beskryf word. Volgens Lotman (2009:13‒4) het sodanige “moment[s] of explosion” ’n drastiese toename in die informatiwiteit van die totale sisteem tot gevolg. Die artistieke gebeurtenis laat dus ruimte vir onmiddellike erkenning: die buitengewone uitvoerende kunstenaar en die kunstenaar wat as geniaal geloof word vir sy/haar vindingrykheid.

We immediately “recognise” – in the sense of identifying – them by their “touch”, their “style”, their particular “sound”, which at the same time allows us to “recognise” – in the valorisation sense – them for their originality. […] It is this new paradigm of artistic valorisation that I call the “singularity realm”. (Heinich 2000:161)

Temporale veranderlikes het dus aanleiding gegee tot ’n nuwe paradigma van artistieke waardebepaling, naamlik die uitsonderlike in teenstelling met die gemeenskaplike.

  • Uitsonderlikheid

Uit die reaksies op die vraag na wat ’n musiekaanbieding op sosiale media uitsonderlik maak en wat die deelnemers as die norme beskou waaraan hul plasing moet voldoen, blyk dit dat die tegniese versorging die belangrikste kriterium is. In geen van die kommentaar is na die intrinsieke waarde van kuns verwys nie, alhoewel dit wat die deelnemers as norme noem, seker wel – as ekstrinsieke eienskappe – raakpunte het met Heinich (2010–2011:123) se beskrywing van “skoonheid”: “the value of beauty, whatever its criteria: harmony, symmetry, elegance, sophisticated adornment etc. (relevant for a traditional or common sensical conception”. Uit die vele video’s wat oor ’n tydperk van ongeveer vier maande as items op FHP se WhatsApp-grendelkonserte geplaas is, is (soos reeds vermeld) nege van die 15 hoogtepunte wat agterna op die skool se Facebook-blad geplaas is, tegnies deur JH versorg. By die plasing van HFP se uitvoering van AE se komposisie “Hy het gekom vir jou” word hy in een van die opmerkings geprys vir “skitterende” kamerawerk. Vir hierdie video is daar ’n klavier in die middel van die rugbyveld geplaas. Vir sommige van die tonele is ’n hommel ingespan. AE wys op die feit dat daar waarskynlik, vir die duur van die inperkings, ’n stortvloed van musiekvideo’s op die internet gaan verskyn “soos wat kunstenaars hulle ambag van die huis af beoefen” en dat kunstenaars baie kreatief te werk sal moet gaan om hul “produk” te laat uitstaan tussen die res: “Ek dink dat wat in my guns tel die feit is dat ek in ’n wye verskeidenheid musiekstyle kan werk en uit ’n samevoeging van hierdie style iets nuuts kan skep” (Esterhuyse 2020).

Aangesien hierdie ondersoek plekspesifiek is, is die vraag na die daarstelling van kultuurerfenis ook ter sake. In ’n artikel getiteld “The making of cultural heritage” lys Heinich (2010–2011:123) die volgende as onderliggende waardebepalingskriteria: outentisiteit, bestaanstyd, rariteit of uitsonderlikheid, skoonheid, betekenisoordrag en sosiale verantwoordelikheid. Hierdie waardebepalingskategorieë val almal binne die artistieke pool van die kulturele veld. In teenstelling met Bourdieu, wat kulturele kapitaal slegs binne die artistieke pool (of die subveld van beperkte produksie) posisioneer, identifiseer Heinich ook ander waardebepalingskriteria, naamlik plesierverskaffing en spiritualiteit. Hierdie waardebepalingskategorieë maak dus voorsiening vir die bestudering van ’n groter verskeidenheid van musikale uitinge.

  • Outentisiteit

Heinich (2010–2011:123) beskryf die waardebepalingskriterium outentisiteit as “the integrity of the bond between the present state of the object and its origin”. Volgens Heinich (2010–2011:123) is hierdie waarde ’n absolute voorwaarde wat altyd en in alle gevalle aanwesig is. Gevolglik kan dit as die kern van “erfgoed” beskou word. Met betrekking tot die teenstelling tussen kommersiële produkte (wat op groot skaal geproduseer word) en niekommersiële produkte (wat op ’n kleiner skaal geproduseer word) wys Bourdieu (1993:82) egter op die uitgestelde, blywende sukses van “klassieke” werke teenoor die onmiddellike, tydelike sukses van die topverkopers. Die vraag wat ontstaan, is of dieselfde “gehoor” wat na byvoorbeeld ’n virtuele produksie soos Anton & Vrinne en AvdW se uitvoering van (dele uit) Saint-Saëns se Tjellokonsert no. 1 gekyk het, ná die inperking weer na ’n lewende uitvoering van dieselfde werk sal gaan kyk. Ek waag die voorspelling dat slegs uitvoerings van die Tjellokonsert weer dieselfde gehoor sal lok. Een van die redes vir hierdie voorspelling is dat die uitvoerder en die musiek in ’n produksie soos Anton & Vrinne met mekaar verbind word. By “klassieke” musiek is dit anders gesteld: “[Be]ing able to hear different performers playing the same work is the norm […] which enables a separation of ‘the music’ and ‘the performance’, while simultaneously acknowledging the value of both” (Dobson 2010:182).

Oudiovisuele skakel 8. Uittreksels uit Saint-Saëns se Tjellokonsert no. 1 soos gespeel deur AvdW
Bron: Anmari van der Westhuizen-Facebook-blad (5 April 2020)

My kennismaking met virtuele musiekaanbiedings en opnames het my in aanraking gebring met “auto-tuning” – iets wat groot vraagstukke met betrekking tot outentisiteit by my laat. Vir een van AE se virtuele musiekproduksies moes ek ’n blokfluitopname met my selfoon maak. Gegewe die feit dat dit nie my eerste instrument is nie én ek op daardie stadium nie ’n baie goeie instrument tot my beskikking gehad het nie, was die intonasie nie oral honderd present nie, maar ek is gerusgestel dat die klanktegnikus daardie plekkies sou kon “reg trek”. JH het dieselfde gedoen met skoolkoorlede wat nie heeltemal op noot was in die lied waarin hy die sangers een-een opgeneem het nie. Alhoewel hierdie vorm van tegnologie ’n nuwigheid vir my was, is stemsintetiseerders reeds in die 1970’s en 1980’s gebruik om ’n beter vokale klank te skep as wat die kunstenaar self kan produseer. Die uitvinding van die eerste stemsintetiseerders word teruggevoer na die 1930’s toe dit gebruik is om geënkodeerde boodskappe gedurende die Tweede Wêreldoorlog te stuur. Die term auto-tune verwys na enige toonhoogtekorreksie, hetsy groot of klein (McKinney 2014). Die sagteware vir Auto-Tune, wat deur Andy Hildebrand, ’n orkesspeler en ’n ingenieur in die oliebedryf, ontwikkel is, het die musiekbedryf in 1998 binnegedring met Cher se “Believe”, wat ten spyte van die vervaardigers se ontkenning, grootliks in ’n ateljee geskep is (Holmes en Core 2013; McKinney 2014). In 2014 het daar ’n storm rondom Britney Spears losgebars toe ’n ongeredigeerde weergawe van die lied “Alien” op haar album Britney Jean uitgelek het waarop sy glo soos ’n “strangled cat” klink (McKinney 2014). Ter verdediging van die popster het William Orbit, die vervaardiger van die album, gesê dat Spears op daardie opname nog net haar stem opgewarm het en dat dit nie ’n ware weerspieëling van haar talent is nie. In reaksie hierop skryf McKinney (2014): “Even if it was a warm-up, the ‘unedited’ recording of ‘Alien’, a song that doesn’t require a very wide range, is pretty pathetic.” Met betrekking tot “the armor of authenticity every pop star is required to wear”, skryf McKinney die volgende:

But why do people expect such immense vocal skills from a star that has never displayed them? Believing that Britney should be able to sing impressively without Auto-Tune requires you to believe something else: that Britney Spears is a musician. Britney Spears is not a musician. And like it or not, success as a pop star is in no way tied to vocal ability.

Alhoewel ek met die musiekkritikus Neil McKenzie (in Holmes en Core 2013) saamstem dat aanpassings van die stem deur middel van rekenaartegnologie die “siel” uit musiek haal, vind ek tóg Holmes en Core (2013) se aanhaling van die musiekkritikus Tom Ewing interessant en bied dit stof tot nadenke: “Ewing believes pitch correction software is just the latest in a long line of innovations. ‘Cathedrals are also technologies of the human voices,’ he said. ‘The acoustics allow the voice to fill a space in a way that it can’t do unaided.”

  • Bestaanstyd

Die waardebepalingskriterium bestaanstyd verwys na die tydperk van die verwantskap tussen die huidige staat van ’n objek en die oorsprong daarvan (Heinich 2010–2011:123). Aangesien daar in hierdie onderafdeling gefokus word op die uitvoering van bestaande komposisies wat nooit identies gereproduseer kan word nie, is hier dus sprake van outografiese kunsbeoefening. Die meerderheid van AvdW se plasings is uitvoerings van werke uit die Barok- en Romantiese tydperke. Volgens AE het “’n paar goeie ‘covers’ […] nog altyd ’n vertoning ekstra lekkerte gegee” (Esterhuyse 2020). Hierdie stelling word gestaaf deur die feit dat Mengelmoes, ’n keurspel van liedere uit die 1980’s en 1990’s, sy aanbieding is wat die meeste reaksie ontvang het.

Oudiovisuele skakel 9. Mengelmoes.
Bron: Anton Esterhuyse-Facebook-blad (25 April 2020)

  • Rariteit

Die waardebepalingskriterium rariteit beteken dat daar slegs ’n klein aantal items in dieselfde kategorie bestaan. Eie komposisies is dus voorbeelde van outografiese kunswerke. AE stel dikwels van sy eie komposisies bekend (deur dit gewoonlik self uit te voer). Eie komposisies wat gedurende die grendeltyd virtueel aangebied is, is “From here to eternity”, “Psalm 139” en “African rain”.

Oudiovisuele skakel 10. “Psalm 139”
Bron: Anton Esterhuyse-Facebook-blad (5 Julie 2020)

Oudiovisuele skakel 11. “From here to eternity”
Bron: Anton Esterhuyse-YouTube-video’s (4 Mei 2020 en 9 November 2020)

Oudiovisuele skakel 12. “African rain”
Bron: Anton Esterhuyse-YouTube-video’s (9 November 2020)

Elfred Fleischman, ’n leerling van HFP, het gereeld van sy eie komposisies tydens die skool se WhatsApp-grendelkonserte uitgevoer. Een van hierdie komposisies, uitgevoer deur Elfred self, is op die skool se Facebook-blad geplaas.

Oudiovisuele skakel 13. Eie komposisie deur Elfred Fleischman
Bron: Hoërskool Fichardtpark-Facebook-blad (9 September 2020) 

  • Betekenisoordrag 

Betekenisoordrag het betrekking op die kapasiteit van die kunswerk om iets te simboliseer of om – meer ter sake vir ’n wetenskaplike benadering – ontvanklik vir kommentaar en interpretasies te wees. Hierdie kriterium figureer nie werklik by een van die rolspelers of instansies nie. Volgens AE probeer hy nie regtig om ’n bepaalde boodskap oor te dra of om iets te simboliseer nie: “Mense moet net geniet om daarna te luister. Somtyds sal die musiek iets voorstel of op ’n manier ’n verhaal vertel, maar ek probeer gewoonlik om nie te filosofies te raak in my werk nie” (Esterhuyse 2020). Met betrekking tot die waardebepalingskriterium betekenisoordrag het die Odeion Strykkwartet se uitvoering van die volkslied van Suid-Afrika ’n interessante reaksie ontlok: “I feel your different masks are symbolic. The surgical one for the infected ones, white for the ones who sucurmed [sic], the other two for the vulnerable and those who are healthy but under dark cloud [sic]” (Universiteit van die Vrystaat-Facebook-blad 1 Junie 2020).

Figure 9, 10, 11 en 12. Die Odeion Strykkwartet tydens die groep se uitvoering van die volkslied van Suid-Afrika
Bron: Universiteit van die Vrystaat-Facebook-blad (1 Junie 2020)

  • Plesierverskaffing

Vir AE is “[m]usikale (en visuele) genot […] aan die einde van die dag vir my die belangrikste” (Esterhuyse 2020). In die onderstaande video’s bied AE, soos wat hy dikwels doen, ook ’n bietjie humor aan.

Oudiovisuele skakel 14. Song challenge: “Provita”
Bron: Anton Esterhuyse-Facebook-blad (16 April 2020)

Oudiovisuele skakel 15. “Klavierkonsert in Afrikaans” (eerste beweging)
Bron: Anton Esterhuyse Productions-YouTube-video’s (27 Februarie 2021)

Alhoewel die leerlinge van HFP hulself jaarliks voorberei vir Trinity- of Unisa-musiekeksamens, asook vir die eksamens van die Nasionale Onderwysdepartement, was 2020 ’n ongewone jaar. Behalwe dat die virus wêreldwyd vrees veroorsaak het en mense geliefdes aan die dood afgestaan het, was daar in vele huishoudings ook bekommernisse met betrekking tot werksverliese. Ingeperk saam met hul ouers het kinders in hierdie spanning gedeel. In die afwesigheid van kontakonderrig was baie kinders ook bekommerd oor hulle skoolwerk en akademiese vordering. Daarom was die dryfveer agter HFP se grendelkonserte in die eerste plek musikale genieting – al is klassiek-opgeleide onderwysers uiteraard daarvan bewus dat plesierverskaffing as waardebepalingskriterium dikwels aanleiding gee tot verdeeldheid tussen die aangeleerde en lekebeskouings van kuns (Heinich 2015:261). HJF se virtuele aanbieding van JF Got Talent was uiteraard ook op plesierverskaffing gemik.

  • Spiritualiteit

’n Ondersoek na die frekwensie van musiekaanbiedings wat godsdienstig van aard is of wat ’n godsdienstige ondertoon het, toon dat 20 van die 47 musiekaanbiedings (dit wil sê 42,55%) wat AE op digitale platforms geplaas het, binne hierdie kategorie val. Gevolglik is spiritualiteit in sy geval ’n belangrike waardebepalingskriterium.

Alhoewel veral Heinich se waardebepalingskriteria groter ruimte laat vir die ondersoek na verskille in smaakvoorkeure, kan die moontlikheid van ander vektore in die herrangskikking en aanpassing van musieksmaak in ’n verbruikersgemeenskap nie uitgesluit word nie. Dit is juis ook op grond van kritiek teen Bourdieu (in The rules of art, 1996) se “neat conceptional separation between artistic seclusion and the demands of the market” (Gurr 2010:6) dat ek ook ander vektore in my ondersoek na musieksmaak moes betrek: “Postcolonial subversiveness, in order to make itself heard, has to rely on the marketing mechanisms of global commodity culture” (Gurr 2010: 6). Ten einde Bourdieu se beskouings meer toepaslik vir die ontleding van globale postkoloniale verskynsels te maak,6 moet die fokus, volgens Gurr (2010:16), van die begrip kapitaal na dié van die veld verskuif word:

Expressed interest to music consumption, for instance, is related to global economic development and directly correlate with current socio-economical situation. The central issue is the reconfiguration of a listener’s system of musical tastes under the influence of various social and non-social vectors, as well as social institutions: the accepted and rejected pieces of music, genres, musical practices. (Kozlovskiy en Tkachuk 2018:38)

Kozlovskiy en Tkachuk (2018:39‒41) identifiseer die volgende vektore in die herrangskikking en aanpassing van musieksmaak in ’n verbruikersgemeenskap: sielkundige, tegnologiese, ekonomiese, fisiologiese en kognitiewe, politiese, aksiologiese, sosiale en kulturele vektore.

  • Sielkundige vektore

’n Ondersoek na die reaksies op Facebook toon dat musiekaanbiedings van ’n godsdienstige aard en wat gerig is op morele versterking, oor die algemeen baie reaksie ontvang. Volgens Kozlovskiy en Tkachuk (2018:39) is daar ’n verband tussen emosionele uitdrukking en sielkundige vektore en is kieskeurigheid met betrekking tot sekere genres of spesifieke komposisies nie slegs ’n aanduiding van individuele sosiale posisies nie, maar ook van lewensondervinding, biografiese selfrefleksie asook ander waardes wat deur individualiteit bepaal word.

  • Tegnologiese vektore

Daar is reeds gewys op die invloed wat tegnologie – en die dienste van ’n bekwame klanktegnikus en kameraman uit eie geledere – op HFP se virtuele produksies gehad het. As ’n gevolg van tegnologiese vooruitgang het musiek meer toeganklik (sowel ekonomies as “fisies”) geword. Gevolglik is daar in sowel luisterpraktyke as in voorkeur (kieskeurigheid) ’n verandering ten opsigte van musiekprodukte (Kozlovskiy en Tkachuk 2018:39–40).

  • Ekonomiese vektore

’n Ondersoek na kykergetalle toon dat enkel-musiekitems baie meer kyke kry as vollengte-produksies. Hierdie waarneming bevestig die invloed van ekonomiese vektore op die musiekbedryf waarin musieksmaak die belangrikste rigtingaanduider is. Kozlovskiy en Tkachuk (2018:40) wys op die fokusverskuiwing van die vrystelling van albums na geselekteerde liedjies, trefferproduksie en bemarking:

[B]y buying an album or song collection, the listener demonstrated more thoughtful patterns of listening. In modern conditions when access to music is almost unlimited, and, therefore, listeners’ is [sic] not focused on everyday listening itself, it is unlikely that he or she will listen to a song that does not hook in the first few seconds. As a result the whole cognitive logic of musical perception changes.

  • Politiese vektore

Staatshulp vir kultuurvorme word dikwels toegeken in verhouding tot daardie kultuurvorme wat as aanvaarbaar of bruikbaar vir die heersende kulturele beleid beskou word. In die geskiedenis was daar selfs voorbeelde van waar die staat sekere genres ondersteun ten einde nasionale identiteit te transformeer. Die teenstelling is ook waar, naamlik dat kultuurvorme wat as bedreigend of destruktief beskou word, deur die regering ingeperk word. Die uitvoering van die volkslied van Suid-Afrika deur sowel die AE-ensemble as die Odeion Strykkwartet voldoen in meer as een opsig aan wat as die heersende kulturele beleid beskou word.

  • Fisiologiese, kognitiewe, aksiologiese, sosiale en kulturele vektore 

Kozlovskiy en Tkachuk (2018:40–1) se beskrywing van fisiologiese en kognitiewe vektore (wat verbind word met die ontwikkeling van taal en akoestiese gewaarwordinge), aksiologiese vektore (wat betrekking het op die verband tussen musieksmaak en die simboliese waarde van musiek self, asook op die waarde wat sosiale groepering van musiekverbruikers daaraan gee), en sosiale vektore (wat betrekking het op simboliese grense wat deur smaakpatrone in rangordelike grense verander word en wat nou verbonde is aan die dinamiek van uitsluiting en insluiting) toon, soos ekonomiese en kulturele vektore, ooreenkomste met die Bourdiaanse beskouing van ’n homologie tussen velde. Die invloed van hierdie homologie op die rolspelers in die artikel is reeds in afdeling 3.2.1 vermeld.

3.3 Sosiale kapitaal

Alhoewel vergelyking nie moontlik is nie (juis as ’n gevolg van verskille in sosiale kapitaal in terme van die aantal Facebook-vriende of intekenaars op YouTube, asook vanweë die feit dat sommige plasings reeds langer as ander op sosiale beskikbaar is, is AvdW (as lid van die Odeion Strykkwartet) se plasing van die volkslied van Suid-Afrika (met 20,2K besigtigings; Universiteit van die Vrystaat-Facebook-blad s.j.) ’n voorbeeld hiervan. Haar verbintenis met die Universiteit van die Vrystaat dra uiteraard by tot haar sosiale kapitaal. Die feit dat AE gereeld saam met internasionaal bekende tjelliste optree, soos ook in haar plasings van musiekvideo’s tydens die inperkings, is weer eens ’n bewys van die belangrike rol wat sosiale kapitaal in die kulturele veld speel. Die gewildheid van die video’s waarin sy saam met meer as 60 tjelliste as huldeblyk aan die tjellis Marian (Lewin) Kimmel optree en in die ander saam met Maria Kleigel en oudstudente van Kliegel, is ’n verdere bewys hiervan (kyk skakel by Anmari van der Westhuizen-Facebook-blad 9 September 2020; 20 September 2020). Hierdie waarnemings sluit dus naatloos aan by Bourdieu (bv. 1996a:110, 122) se beskouings met betrekking tot die kulturele veld waarin sosiale kapitaal verwys na die sosiale netwerke waarvan die mens deel is en na die status wat mens op grond van daardie netwerke verkry.

Oudiovisuele skakel 16. ’n Uitvoering deur Maria Kliegel en haar oudstudente (van wie AvdW een is)
Bron: Anmari van der Westhuizen-Facebook-blad (20 September 2020)

Alhoewel AE nie sy gewone werksaamhede as begeleier van die skoolkoor van HFP kon uitvoer nie, het hy betrokke gebly by hierdie instelling deurdat hy gereeld sowel begeleidingsklankbane as solo-items vir die skool se weeklikse virtuele musiekkonserte opgeneem het.

3.4 Ekonomiese kapitaal

Soos reeds genoem, is AvdW aan ’n universiteit gevestig en dus van ’n gereelde salaris verseker. Vir haar was “die ekstra solokonserte se inkomste” wat sy uit lewende konserte sou kon verdien, egter verlore: “Gelukkig het rentekoerse en minder reise (petrol-onkoste) gemaak dat dit op die ou einde gelyk gespeel het” (Van der Westhuizen 2020). Alhoewel AE betrokke is by ’n gemeentelike musiekbediening, verdien hy die grootste deel van sy inkomste uit musiekkonserte en -produksies. AE noem dat ’n hele klompie musiekkonserte en funksies waarby hy betrokke sou gewees het, gekanselleer is. Die aanvraag na verwerkings het ook afgeneem, veral met kore, aangesien die Applous-koorkompetisie en alle ander kooruitvoerings gekanselleer is. Begeleidings vir kore (en die inkomste daaraan verbonde) het ook in die slag gebly, asook produksies waarvoor hy as musiekregisseur sou opgetree het. Volgens AE sou virtuele musiekuitvoerings aanvanklik ’n manier wees om sy naam aan ’n wyer gehoor bekend te stel, maar het dit tydens die inperking en die gevolglike finansiële druk, ’n noodsaaklikheid geword. (Esterhuyse 2020). In Augustus 2020 het hy, in samewerking met nog twee Bloemfonteinse musici, Sibongile Mngoma en Angelo Mockie, ’n reeks konserte getiteld Sunday Spirit begin. Kaartjies vir hierdie weeklikse uitsendings kon teen R50 gekoop word (kyk bv. 15, 20 en 30 Augustus 2020 op die Anton Esterhuyse-Events-Facebook-blad). AE se konsertreeks Anton & Vrinne, wat in vier episodes gedurende September plaasgevind het, is egter steeds gratis aangebied. Vir hierdie produksie het hy ’n borgskap van die Afrikaanse Kunstetrust ontvang. In Bloemfontein het die Afrikaanse Kunstetrust tydens ’n vergadering wat op Woensdag 10 Junie 2020 gehou is, besluit om alle borgskaptoekennings vir 2020 te herevalueer, aangesien geen “normale” konserte kan plaasvind nie. Die Trust wil wel Vrystaatse kunstenaars wat tydens die COVID-19-inperkings geen inkomste verdien nie, finansieel bystaan. Aangesien produksies vir ’n onbepaalde tyd virtueel gaan wees, is kunstenaars versoek om enige nuwe inisiatiewe en kreatiewe voorstelle met ’n volledige begroting in te dien (Beckley 2020). Die borgskap wat aan AE toegeken is, is hoofsaaklik gebruik om musici en tegnici wat by die produksie betrokke was, te vergoed. Vir sommige van sy projekte kry AE dus wel finansiële vergoeding, terwyl ander meer vir blootstelling is (Esterhuyse 2020). In Oktober 2020 het AE ’n “crowdfunding”-projek van stapel gestuur om geld in te samel vir ’n nuwe rekenaar (kyk Anton Esterhuyse-Facebook-blad 19 en 26 Oktober 2020). By die video’s van sy reeks van drie klavierkonserte in Afrikaans, wat op 27 Februarie, 6 Maart en 13 Maart 2021 op die Anton Esterhuyse Productions YouTube-video’s-blad geplaas is, het AE begin om donasies te vra en word sy bankbesonderhede verskaf. Soos reeds genoem, het HFP ook ’n borgskap van die Kunstetrust ontvang. Hierdie fondse is aangewend om die professionele musici wat in die ensemble gespeel het of wat as soliste opgetree het, te vergoed.

By HFP, waar ek die enigste musiekonderwyseres is, word die musiekpos deur die beheerliggaam befonds. HJF het ook ’n klein musiekdepartement met slegs een musiekonderwyseres, maar sy is in ’n departementele pos aangestel. HS het ’n musiekakademie met ’n hele paar onderwysers wat uit leerlinge se lesgelde vergoed word. Tot die einde van 2020 was die hoof van die musiekakademie nog in ’n departementele pos aangestel. Soos vroeër genoem, kan veralgemenende afleidings nooit op grond van slegs een geval gemaak word nie, maar wanneer daar gekyk word na die verband tussen werksekerheid van die rolspelers in hierdie ondersoek (in terme van beheerliggaam- teenoor departementele poste) en die aantal aanbiedings van HFP, HJF en HS (kyk grafiese voorstelling 1), word daar ’n omgekeerde eweredigheid waargeneem: Hoe minder die werksekerheid tydens die inperking was, hoe groter was die aantal virtuele musiekaanbiedings (as pogings om sigbaar te bly).

Tydens die inperking is geldelike vergoeding heel waarskynlik die waardebepalingskriterium waaraan kunstenaars die grootste behoefte het. Alhoewel lewende uitvoerings die mees voor die hand liggende slagoffer van die inperking is, is dit nie net uitvoerende kunstenaars wat hul inkomste uit konsertoptredes verdien wat hierdeur geraak word nie: “[T]he bread and butter for many musicians: teaching, session work, recording and producing work with bands, has also dropped off” (Crowcroft 2020). Volgens Spector (2020) is daar vir elke uitvoerende kunstenaar ook minstens twaalf tegnici wat geraak word, iets wat weer ’n groot invloed op die ekonomie van ’n land het:

While these people have little or no money coming in because they have no work, their rents, mortgage bonds, car payments, school fees, food bills, lay-bys, miscellaneous debit orders, and monthly medical plans and retirement annuity payments (if they have them and had the foresight to set them up) continue. Every bill becomes an existential moment for individuals, and the net effect becomes a not-inconsequential knock on the economy as a whole.

Voorts dra musici dikwels nie by tot ’n mediese of pensioenfonds nie: “Musicians are about the least canny when it comes to finance. Nobody I know who is a musician has a pension” (Crowcroft 2020). Globaal en plaaslik word kunstenaars beskryf as “[o]ne of the lesser recognised victims of the current pandemic-plus-economic-shutdown catastrophe” (Spector 2020).

Hulpfondse wat beskikbaar gestel is aan Suid-Afrikaanse kunstenaars sluit in hulpfondse van die Trade Union of Musicians of South Africa (Tumsa) (kyk Vukani 2020), van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur (Departement Sport, Kuns en Kultuur 2020a; 2020b), wat egter swak bestuur is (kyk Tlou 2020), van The Arts & Culture Trust (ACT) (kyk Visual Arts Network of South Africa 2020), van Business and Arts, South Africa, (Basa) (kyk Business and Arts, South Africa 2020), van die National Arts Council, of NAC (kyk National Arts Council 2020) asook van die Gauteng Relief Fund for the Sport, Recreation, Cultural and Creative Sectors (kyk Boxing South Africa 2020). Die National Arts Council was onlangs in die nuus vir die hantering van die R300 000 000 wat as deel van die Presidential Employment Stimulus Programme (PESP) beskikbaar gestel is. In die week van 19 Maart 2021 is aangekondig dat 1 215 aansoeke goedgekeur is en dat uitbetalings teen 31 Maart 2021 sou geskied. Dit volg op ’n protesaksie van meer as twee weke waartydens kunstenaars, gelei deur die operasangeres Sibongile Mngoma, by die NAC se kantore in Johannesburg uitgekamp het. Die kunstenaars voer aan dat die toewysing van die fondse ondeursigtig was. In haar reaksie op die goedkeuring van aansoeke het Mngoma gesê die NAC “[should be] ashamed that they are failing the arts sector in disbursing the money that is much needed by the artists in South Africa” (Shumba 2021).

Ten spyte van die skielike populariteit van regstreekse uitsendings is dit onwaarskynlik dat aanlyn konserte die gaping sal vul wat deur lewende uitvoerings gelaat word – veral aangesien dit bykans onmoontlik is om hierdie tipe uitvoerings in geldwaarde te omskep. Veral AE het heelwat musiekaanbiedings op Facebook geplaas en gevolglik was hierdie platform die hoofkanaal waardeur die kunstenaar sy “besigheid” gekommunikeer het. Die blad Facebook for Business (s.j.; oorspronklike hooflettergebruik) verduidelik hierdie bemarkingsmoontlikhede soos volg: “When people like your Facebook Page, they can follow your Page posts to stay informed about your business. You can also use geographic and demographic insights about people who like your Page to make marketing decisions.” Die aantal houvans wat elke Facebook-plasing ontvang (en wat vir die kunstenaar gelykstaande is aan applous), het ook bemarkingswaarde vir die besigheid. Kommunikasie geskied voorts deur middel van die deel van die plasing met ander op die platform. Die deel-opsie laat ook die geleentheid om ’n persoonlike boodskap by te voeg – in groepe óf aan vriende via ’n Facebook-boodskap (Facebook for Developers s.j.). Kommentare, wat ’n bykomende kommunikasiemedium is, kan ook met vriende en vriende van vriende gedeel word.

Twitch, YouTube en meer gespesialiseerde platforms soos StageIt, Facebook Live en IGTV is voorbeelde van platforms wat gedurende die wêreldwye inperkingstyd deur kunstenaars gebruik word om hul musiek met aanhangers te deel (IQ 2020). Dienste soos Spotify, Apple, Amazon en Deezer wat regstreekse uitsendings moontlik maak, betaal slegs ’n breukdeel van ’n sent per uitsending aan die kunstenaar (Pastukhov 2019). Volgens Crowcroft (2020) beteken dit dat slegs die grootste kunstenaars en bekendste, mees gevestigde name op digitale platforms hulself finansieel daaruit kan onderhou. In ’n poging om hul regstreekse uitsendings in geldwaarde te omskep, plaas kunstenaars/musici dikwels ’n skakel na ’n virtuele “tip jar” waarin aanhangers via PayPal donasies kan maak.

Ten einde régtig geld uit YouTube-besigtigings te maak, moet daar miljoene kere na ’n video gekyk word. Die omskepping van YouTube-plasings in geldwaarde word op ’n hele klompie uiteenlopende faktore gebaseer. Een daarvan is dat die kunstenaar deel moet wees van die YouTube Partner-program. In die verlede moes die kunstenaar 10 000 besigtigings oortref alvorens hy/sy lid van die program kon word. Tans word ander aspekte, soos die grootte van die kanaal, die gehoor se betrokkenheid en die kunstenaar se “gedrag”, ook in berekening gebring. Ten einde te kwalifiseer moet die kunstenaar voorts al die YouTube Partner Program-beleidsbepalings nakom, woonagtig wees in ’n land waar die program beskikbaar is, meer as 4 000 openbare kyk-ure gedurende die laaste 12 maande gehad het, meer as ’n 1 000 intekenaars hê en oor ’n rekening beskik wat met AdSense geskakel is (Symphonic 2020). Geen van die rolspelers in hierdie ondersoek voldoen aan hierdie vereistes nie en gevolglik kon hulle nie ’n inkomste uit hul plasings genereer nie.

Die kwessie van vergoeding vir musici (veral beoefenaars van die sogenaamde hoër kuns) het die afgelope tyd vir heelwat debat op sosiale media gesorg. Op die pianis Nina Schumann se Facebook-blad (inskrywingsdatum 19 Augustus) skryf Brent Reynolds:

There is no doubt in my mind that artists, production crews, piano tuners and anyone else involved in the producing of a concert should be paid. Nobody should work for free. Their artistry, expertise and skill has (monetary) value. For me, the debate centres around whether the public should get free access to that artistry and skill. I would like to see us move towards people buying a ticket because they value the content. Not having to rely on pity, or “ag shame, let me support the arts”, but rather “I really want to buy a ticket because I like what I see and am willing to pay to get access to that content.”

In Suid-Afrika het die eerste sprankie hoop tot die hervatting van lewende musiekkonserte op Woensdag 17 Junie 2020 gekom met die aankondiging dat teaters, met beperkte toegang, aktiwiteite kon begin hervat op ’n datum wat later aangekondig sou word (Business Insider SA 2020). Sedert ongeveer die einde van Junie 2020 tot die aanvang van vlak 1 op 20 September 2020 het die volgende regulasies vir die heropening van teaters gegeld:

  • ’n Maksimum van 50 mense mag die produksie bywoon.
  • Alle inperkingsregulasies, soos aangekondig deur die betrokke kabinetslid, moet nagekom word, insluitend die handhawing van sosiale afstand.
  • ’n Maksimum van 15 kunstenaars en produksiespanlede, insluitend die persone verantwoordelik vir regstreekse uitsendings of vir die maak van opnames vir digitale platforms, mag betrokke wees by die produksie. (BusinessTech 2020)

Alhoewel Suid-Afrika, soos reeds genoem, op 17 Augustus 2020 oorgeskuif het na vlak 2 van die nasionale inperking, het die regulasie dat nie meer as 50 mense ’n byeenkoms mag bywoon nie, van krag gebly (Maroela Media 2020) totdat daar onder vlak 1 (vanaf 20 September 2020) byeenkomste toegelaat word solank die aantal mense nie meer as 50% van die kapasiteit van ’n lokaal oorskry nie (tot ’n maksimum van 250 mense vir binnehuise byeenkomste en 500 mense vir buitenshuise byeenkomste) (Janse van Rensburg 2020). Die heropening van teaters, selfs met beperkte toegang, het egter koste-implikasies: “The escalating costs of extra security to enforce social distancing, increased sanitation, insurance, potential protection for venue staff in the future is a minefield for the industry, already grappling to stay afloat” (Iqbal 2020). Gevolglik maak musici steeds eerder van sosiale media as platform vir musiekaanbiedings gebruik.

 

4. Samevatting

Aangesien hierdie ondersoek geïnspireer is deur my eerstehandse ervaring van die invloed wat inperkingsregulasies op kulturele aktiwiteite gehad het, word die artikel in die vorm van ’n persoonlike narratief aangebied. Narratiewe skep nie alleenlik kategorieë vir die interpretering en ontleding van, en besinning oor, gebeure soos die inperking nie – dit is ook ’n postmoderne benadering tot kenniskonstruksie.

Die artikel bied ’n verkenning van plaaslike musici se reaksies op die nasionale inperking as strategiese handelinge binne veldteoretiese denke met die doel om ondersoek in te stel na die maniere waarop musici hul sigbaarheid tydens die pandemie kon bestendig. Deur die plooibare gebruik van verskillende vorme van data, waaronder plasings op sosiale media, foto’s, video’s en e-pos-korrespondensie, asook uiteenlopende teoretiese en metodologiese hulpmiddels – ’n navorsingsmetode algemeen bekend as bricolage – is aangetoon dat daar ’n drastiese toename in die plasing van musiekaanbiedings op sosiale media was en is daar gefokus op die rol wat sosiale energie in die onderskeid tussen die “uitsonderlike” en die “gewone” speel.

Uit die ondersoek na die reaksies van plaaslike musici op die inperkings het daar gedeelde kenmerke na vore gekom. Alhoewel die beoefenaars van die sogenaamde hoër kuns hulself normaalweg binne die artistieke pool van die kulturele veld (die subveld van beperkte produksie) posisioneer, was daar ook by hierdie musici ’n toename in virtuele musiekaanbiedings. Terwyl die streng tweedelige inslag van teoretiese raamwerke soos dié van Bourdieu, volgens Van Coller (2010:488), “steeds glo aan ’n digotomiese model: kuns versus verstrooiing, anders gestel, tussen hoë en lae vorme van kuns”, dui die bevindinge in hierdie artikel daarop dat selfs die onderhouers van die sogenaamde hoër kuns nou meer as ooit oop is vir verskeie kultuuruitinge. Die inperkingstyd het dus baie vaste opvattings (en indelings) grondig aangetas en oopgestel vir nuwe perspektiewe en daarom kan die moontlikheid van ander vektore in die herrangskikking en aanpassing van musieksmaak (én uitsonderlikheid) in ’n verbruikersgemeenskap nie uitgesluit word nie.

Deurdat musici tydens die grootste gedeelte van die inperking self verantwoordelik was vir die produksie van hul musiekaanbiedings, is hul trajekte verder uitgebrei. Wanneer ’n kunstenaar self sy/haar musiek op die internet geplaas het, moes hy/sy tegelykertyd uitvoerder, beligtingstegnikus, klanktegnikus en regisseur wees.

Alhoewel dit baie moeilik is om musiekaanbiedings in geldwaarde omskep, het ’n trajek wat verskillende rolle binne die kulturele veld akkommodeer, die musici in hierdie ondersoek in staat gestel om die finansiële uitdagings wat deur die inperkings teweeggebring is, die hoof te bied.

By HFP is my musiekleerlinge meer entoesiasties oor hul musiekbeoefening as ooit vantevore. Leerlinggetalle het uitgebrei en musiekonderrig by die skool word steeds finansieel deur die beheerliggaam ondersteun. Die kwaliteit van die video’s wat JH geskep het, het daartoe aanleiding gegee dat hy steeds op ’n weeklikse basis – teen vergoeding ‒ die virtuele musiekaanbiedings van die NG Gemeente Pellissier in Bloemfontein hanteer. Die manier waarop AE die musiekbediening van sy gemeente hanteer het en die begeleidingsklankbane wat hy gemaak het vir virtuele musiekaanbiedings van HFP, het daartoe gelei dat sy kontrakte met hierdie instellings vir 2021 hernu is en dat hy dus steeds ’n maandelikse salaris ontvang.

Vir al die rolspelers in hierdie ondersoek was die verwerwing en/of instandhouding van simboliese kapitaal die grootste dryfkrag agter hul virtuele musiekbeoefening tydens die inperkings: om steeds “sigbaar” te wees en om hul roeping uit te leef. Soos wat dit in hierdie ondersoek na vore gekom het, is daar dus in die kunstenaarsberoepe ’n groter behoefte aan respek/agting as in meer markgeoriënteerde beroepe (kyk ook Heinich 2009:3).

In al die gevalle was daar sprake van bemiddelingspersone en -prosesse en interafhanklikheid, enersyds in die vorm van samewerking met klanktegnici en videograwe en andersyds tussen werke (die virtuele musiekaanbieding) en die virtuele gehoor.

Al die bogenoemde kenmerke vertoon ’n inherente vorm van sosiale energie (kyk Greenblatt 1997:12) en bevestig dus die belangrike rol van die onderhandeling en uitruiling van sosiale energie in die strewe na die verwerwing van simboliese kapitaal (of sigbaarheid): virtuele musiekbeoefening as ’n kreatiewe, motiefgedrewe skeppingsproses; musiekbeoefening in terme van ’n van wie en ’n vir wie; en die virtuele musiekaanbieding as die produk van kollektiewe uitruiling.

 

Bibliografie

Adorno, T.W. 1976. Introduction to the sociology of music. Vertaal uit Duits deur E.B. Ashton. New York: Seabury.

Aristoteles. s.j. The politics of Aristotle. Vertaal uit Grieks deur M.A. Jowett. 1885. Oxford: Clarendon Press. https://www.stmarys-ca.edu/sites/default/files/attachments/files/Politics_1.pdf#page=90&zoom=auto,-197,304 (15 Maart 2021 geraadpleeg).

Anmari van der Westhuizen-Facebook-blad. s.j. https://www.Facebook.com/anmari.vanderwesthuizen (20 Maart 2021 geraadpleeg).

Anton Esterhuyse-Facebook-blad. s.j. https://www.facebook.com/anton.esterhuyse.5473 (20 Maart 2021 geraadpleeg).

Anton Esterhuyse-YouTube-video’s. s.j. https://www.youtube.com/channel/UCrxGfolDnS-VIfmlH0PVQhg (20 Maart 2021 geraadpleeg).

Anton Esterhuyse Events-Facebook-blad. s.j. https://www.facebook.com/anton.events (20 Maart 2021 geraadpleeg).

Anton Esterhuyse Productions-YouTube-video’s. s.j. https://www.youtube.com/channel/UCgjw06Qcj8J0PrVd_mzqUOA (20 Maart 2021 geraadpleeg).

Babbie, E. en E. Mouton. 2001. The practice of social research. Oxford: Oxford University Press.

Beckley, A.P. 2020. Kunsterust 2020 borgskappe en COVID-19-pandemie. 12 Junie. kotzeej@ufs.ac.za.

Berensmeyer, I. s.j. The production of the author on the edges of (modern?) communication. http://www.gradnet.de/papers/pomo2.papers/berensen00.htm (16 Junie 2019 geraadpleeg; die skakel is nie meer lewend nie).

Bonthuys, M. 2016. ’n Vergelykende ondersoek na die toekenning van debuutpryse vir Afrikaanse en Nederlandse poësie, 1990–2009. Doktorale proefskrif, Universiteit Stellenbosch.

Bourdieu, P. 1993. The field of cultural production. Onder redakteurskap van R. Johnson. Cambridge: Polity Press.

—. 1996a. Distinction: A social critique of the judgement of taste. Vertaal uit Frans deur R. Nice. Cambridge, Massachusetts: Harvard University Press.

—. 1996b. The rules of art: Genesis and structure of the literary field. Vertaal uit Frans deur S. Emanuel. California: Stanford University Press.

Boxing South Africa. 2020. Gauteng Relief Fund for the Sport, Recreation, Cultural and Creative Sectors. https://www.boxingsa.co.za/vacancy-tournament-officer-2-2-2-3 (22 Julie 2020 geraadpleeg).

Britz, E. 2020. Leerlinge oefen hard vir weeklikse aanlyn konserte. Volksblad, 5 Augustus. https://www.netwerk24.com/Vermaak/Musiek/weeklikse-aanlyn-konsert-laat-musiekleerling-hard-oefen-20200805 (7 April 2021 geraadpleeg).

Brown, M. 2020. South Africa begins nationwide coronavirus lockdown. Voice of America, 27 Maart. https://allafrica.com/stories/202003270002.html.

Business and Arts, South Africa. 2020. Artists relief grants. https://basa.co.za/grants/artist-relief-grants (22 Julie 2020 geraadpleeg).

Business Insider SA. 2020. Relaxed lockdown: Casinos, theatres and – hairdressers – to return, Ramaphosa says. 17 Junie. https://www.businessinsider.co.za/ramaphosa-announces-relaxed-lockdown-regulations-2020-6 (13 Julie 2020 geraadpleeg).

BusinessTech. 2020. Here are South Africa’s new lockdown rules – including changes for exercising, cinemas and more. 26 Junie. https://businesstech.co.za/news/government/411015/here-are-south-africas-new-lockdown-rules-including-changes-for-exercising-cinemas-and-more (13 Julie 2020 geraadpleeg).

Christopher Duigen’s Music Revival. 2020. Christopher Duigen: calm in the chaos. Piano concerts adapting to change. https://www.musicrevival.co.za/christopherduigan-pianist/#christopher-duigan-pianist (7 Julie 2021 geraadpleeg).

Creswell, J.W. 2013. Qualitative inquiry and research design: Choosing among five approaches. Los Angeles, Londen, Nieu-Delhi, Singapoer, Washington: SAGE Publications Inc.

Crowcroft, O. 2020. Life after lockdown: Will live music survive a post-coronavirus world? 14 Mei. https://www.euronews.com/2020/04/25/life-after-lockdown-will-live-music-survive-a-post-coronavirus-world (22 Julie geraadpleeg).

Departement Sport, Kuns en Kultuur. 2020a. A–Z of the Relief Plan from the Department of Sports, Arts and Culture (DSAC). www.dac.gov.za/content/z-relief-plan-department-sports-arts-and-culture-dsac (22 Julie 2020 geraadpleeg).

—. 2020b. Update on Covid-19 relief fund adjudication process: Department of Sport, Arts and Culture (DSAC). 2 Mei. https://www.nac.org.za/covid19/update-on-covid-19-relief-fund-adjudication-process-department-of-sport-arts-and-culture-dsac (22 Julie 2020 geraadpleeg).

Digitv. 2020. Sentraal Hoërskool. https://digitv.co.za/#/school/digitv.co.zaevents/45 (20 Maart 2021 geraadpleeg).

Dobson, M. 2010. Between stalls, stage and score: An investigation of audience experience and enjoyment in classical music performance. Doktorale proefskrif. Universiteit van Sheffield. https://etheses.whiterose.ac.uk/14971 (8 April 2021 geraadpleeg).

Dube, T. 2020. Reopening date for South Africa’s schools has not been announced. AFP, 29 Maart. https://factcheck.afp.com/reopening-date-south-africas-schools-has-not-been-announced (2 Junie 2021 geraadpleeg).

Esterhuyse, A. 2020. Kommunikasie per e-pos, 1 Julie.

Facebook for Business. s.j. Page likes. https://www.Facebook .com/business/help/711740495562856 (18 Augustus 2020 geraadpleeg).

Facebook for developers. s.j. Social plugins. https://developers.Facebook .com/docs/plugins/comments (18 Augustus 2020 geraadpleeg).

Fourie, P.J. 2009. Kommunikasiekunde in Suid-Afrika: Die begin, die hede en uitdagings vir die toekoms. Koers, 74(1/2):175–95.

Given, L.M. (red.). 2008. The SAGE encyclopedia of qualitative research methods. Los Angeles, Londen, New Delhi, Singapore: SAGE.

Go, J. 2013. Decolonizing Bourdieu: Colonial and postcolonial theory in Pierre Bourdieu’s early work. Sociological Theory, 31(1) 49–74. https://www.researchgate.net/publication/258190385_Decolonizing_Bourdieu_Colonial_and_Postcolonial_Theory_in_Pierre_Bourdieu's_Early_Work/link/5f61495da6fdcc1164159509/download (12 April 2021 geraadpleeg).

Greenblatt, S.J. 1997 [1988]. Shakespearean negotiations: the circulation of social energy in Renaissance England. New York: Oxford University Press.

Gurr, J.M. 2010. Bourdieu, capital, and the postcolonial marketplace. https://www.uni-due.de/imperia/md/content/balcang/gurr_bourdieu__capital__and_the_postcolonial_marketplace.pdf (12 April 2021 geraadpleeg).

Hammersley, M. 2008. Bricolage and bricoleur. In Given (red.) 2008:65.

Hanekom, A. 2005. Om tot beter verstaan van die leerproses te kom: ’n outobiografiese narratief. Magisterverhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Heidelberger, C.A. en T.W. Uecker. 2009. Scholarly personal narrative as Information Systems research methodology. https://aisel.aisnet.org/cgi/viewcontent.cgi?referer=https://www.google.com/&httpsredir=1&article=1014&context=mwais2009 (1 Maart 2021 geraadpleeg).

Heinich, N. 2000. What is an artistic event?: A new approach to the sociological discourse. Boekmancahier, 12(44):159–68.

—. 2009. The sociology of vocational prizes: Recognition as esteem. Theory, Culture and Society, 26(5):85–107. https://halshs.archives-ouvertes.fr/halshs-01202780 (19 April 2018 geraadpleeg).

—. 2010–2011. The making of cultural heritage. The Nordic Journal of Aesthetics, 40/41:119–28.

—. 2015. Beyond beauty: The values of art – towards an interdisciplinary axiology. Proceedings of the European Society for Aesthetics, 7:259–63.

—. s.j. #50|The artist expected|Nathalie Heinich. Arts & Sociétés. https://www.sciencespo.fr/artsetsocietes/en/archives/1476 (7 April 2021 geraadpleeg).

Herselman, M. 2020. Situasie benard vir beheerliggaam-onnies. Netwerk24, 8 Julie. https://www.netwerk24.com/Nuus/Onderwys/situasie-benard-vir-beheerliggaam-onnies-20200708 (27 Maart geraadpleeg).

Hoërskool Fichardtpark-Facebook-blad. s.j. https://www.Facebook .com/HFPBloem (20 Maart 2021 geraadpleeg).

Hoërskool Sentraal-Facebook-blad. s.j. https://www.Facebook .com/HoerskoolSentraal (20 Maart 2021 geraadpleeg).

Holmes N. en K. Core. 2013. Pitch perfection? The flawless vocal and the rise of Auto-Tune. bbc.com, 17 Mei. https://www.bbc.com/news/entertainment-arts-22514705 (29 Maart 2021 geraadpleeg).

IQ. 2020. Instagram allows monetisation of live streams. 28 Mei. https://www.iq-mag.net/2020/05/instagram-allows-monetisation-live-streams/#.XxfzUZ4zbIU (22 Julie geraadpleeg).

Iqbal, N. 2020. Don’t stand so close: How live music has changed its tune in lockdown | Music festivals | The Guardian. https://www.theguardian.com/music/2020/may/16/dont-stand-so-close-how-live-music-has-changed-its-tune-in-lockdown (22 Julie geraadpleeg).

Jandré Huygen-YouTube-video’s. s.j. https://www.youtube.com/channel/UC5yZoSpc58Xxl51ED_aty0g (20 Maart 2021 geraadpleeg).

Janse van Rensburg, R. 2020. Covid-19: Meer oor Suid-Afrika se “nuwe normaal” tydens vlak 1. 17 September. https://solidariteit.co.za/covid-19-meer-oor-sa-se-nuwe-normaal-tydens-vlak-1 (23 September 2020 geraadpleeg).

Jansen van Rensburg, L.R. 2003. Bemarking: Die wet van transaksies. Intreerede gelewer op 5 September, Skool vir Entrepreneurskap, Bemarkings- en Toerismebestuur, Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. https://repository.nwu.ac.za/bitstream/handle/10394/8811/Janse_van_Rensburg_LR.pdf?sequence=1&isAllowed=y (21 Maart 2019 geraadpleeg).

JF TV. s.j. https://www.youtube.com/channel/UCNLm1VLkdz68tiU5g-OFE3Q/videos (20 Maart 2021 geraadpleeg).

Johnson, R. 1993. Editor’s introduction: Pierre Bourdieu on art, literature and culture. In Bourdieu 1993:1‒29.

Koch, J. 2020. Pleks van plaas. Kaapstad: Naledi.

Kozlovskiy, V. en D. Tkachuc, D. 2018. Vectors of musical tastes reconfiguration in consumer society. Advances in Social Science, Education and Humanities Research, 184:38‒41. https://www.atlantis-press.com/proceedings/icesem-18/25900910 (16 Maart 2021 geraadpleeg).

Kruger, E. 2006. Die gebruik van humormateriaal in die onderrig van Afrikaans. Doktorale proefskrif, Universiteit Stellenbosch. https://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/50599 (10 Maart 2020 geraadpleeg).

Lévi-Strauss, C. 1962. From The savage mind. The science of the concrete. http://web.mit.edu/allanmc/www/levistrauss.pdf (4 Maart 2021 geraadpleeg).

Lotman, J. 2009. Culture and explosion. Vertaal uit Russies deur W. Clark. New York, Berlyn: Mouton De Gruyter.

Mahbub, R. en K.F. Shoily, K.F. 2016. The place of Pierre Bourdieu’s theories in (popular) cultural studies. BRAC University Journal, X1(1):1–9. http://dspace.bracu.ac.bd/xmlui/handle/10361/6772 (12 April 2021 geraadpleeg).

Maree, K. 2015. First steps in research. Pretoria: Van Schaik.

Maree, K. en C. van der Westhuizen. 2015. Planning a research proposal. In Maree (red.) 2015:23–45.

Maroela Media. 2020. Ramaphosa: Vlak 2 van afsonderingsperiode aangekondig. 15 Augustus. https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/ramaphosa-vlak-2-van-afsonderingsperiode-aangekondig (18 Augustus geraadpleeg).

McKinney, K. 2014. Britney Spears is a pop queen. And pop queens don’t need to sing. vox.com, 11 Julie. https://www.vox.com/2014/7/11/5888535/britney-spears-without-autotune-horrible (29 Maart 2020 geraadpleeg).

Nash, R.J. en D.L. Bradley. 2011. Me-search and re-search: A guide for writing scholarly personal narrative manuscripts. Charlotte, NC: Information Age Publishing Inc.

National Arts Council. 2020. NAC provides relief funding to 2019/20 beneficiaries. 25 Mei. https://www.nac.org.za/funding-news/nac-provides-relief-funding-to-2019-20-beneficiaries (22 Julie 2020 geraadpleeg).

Netwerk24. 2020. Inperking: Só lyk vlakke. 23 April. https://www.netwerk24.com/Nuus/Gesondheid/inperking-so-lyk-vlakke-20200423 (14 Desember geraadpleeg).

Nina Schumann-Facebook-blad. s.j. https://www.Facebook.com/nina.schumann.18 (31 Augustus geraadpleeg).

Pastukhov, D. 2019. What music streaming services pay per stream (and why it actually doesn’t matter). 27 Junie. https://soundcharts.com/blog/music-streaming-rates-payouts (21 Julie 2020 geraadpleeg).

Peterson, R.A. en R.M. Kern. 1996. Changing highbrow taste: From snob to omnivore. American Sociological Review, 61(5):900–7. https://is.muni.cz/el/1423/podzim2010/SOC776/SOC_470_Peterson.pdf (25 Maart 2020 geraadpleeg).

Plato. The Republic. Vertaal uit Grieks deur A. Bloom. New York, Londen: BasicBooks. https://mvlindsey.files.wordpress.com/2015/08/allen-bloom-the-republic.pdf (15 Maart 2021 geraadpleeg).

Pretorius, J. 2009. Estetiese hoedanighede in die lewe en werk van Lorraine Botha: ’n Estetiese ondersoek na pedagogiese kunstenaarskap. LitNet Akademies, 6(2):132–56. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2021/01/LA_6_2_pretorius.pdf (10 Maart 2021 geraadpleeg).

Prior, N. 2013. Bourdieu and the sociology of music consumption: A critical assessment of recent developments. Sociology Compass, 7(3):181–93. https://www.pure.ed.ac.uk/ws/portalfiles/portal/17982512/Bourdieu_and_the_Sociology_of_Music_Consumption.pdf (14 Julie 2021 geraadpleeg).

Shumba, A. 2021. SA National Arts Council approves PESP funding for creatives. Music in Africa. 19 Maart. https://www.musicinafrica.net/magazine/sa-national-arts-council-approves-pesp-funding-creatives (3 April geraadpleeg).

Spector, J.B. 2020. Arts, the orphan stepchild of Covid-19 relief. 14 April. https://www.dailymaverick.co.za/article/2020-04-14-arts-the-orphan-stepchild-of-covid-19-relief/#gsc.tab=0 (22 Julie 2020 geraadpleeg).

Stewart, M. 2020. Weaving personal experience into academic writings. Writing spaces: Readings on writings, 3:162–74. https://writingspaces.org/sites/default/files/stewart-weaving-personal-experience-into-academic-writing.pdf (4 Maart 2021 geraadpleeg).

Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Facebook-blad. s.j. https://www.facebook.com/saakademie (2 Junie 2020 geraadpleeg).

Symphonic. 2020. How does YouTube monetization work? April. https://blog.symphonicdistribution.com/2020/04/youtube-monetization-2 (22 Julie geraadpleeg).

The Presidency Republic of South Africa. 2020. Statement by President Cyril Ramaphosa on measures to combat COVID-19 epidemic. 24 Maart. http://www.thepresidency.gov.za/press-statements/statement-president-cyril-ramaphosa-measures-combat-covid-19-epidemic (13 Julie 2020 geraadpleeg).

Tlou, G. 2020. Filmmakers, artists battling to make ends meet during lockdown want to return to work. 29 Junie. https://www.iol.co.za/the-star/news/filmmakers-artists-battling-to-make-ends-meet-during-lockdown-want-to-return-to-work-50089158 (22 Julie 2020 geraadpleeg).

Ufs.ac.za. s.j.a. Anmari van der Westhuizen Joubert – UFS. https://www.ufs.ac.za/humanities/departments-and-divisions/odeion-string-quartet-home/quartet-members/anmari-van-der-westhuizen-joubert (31 Augustus 2020 geraadpleeg).

—. s.j.b. Odeion String Quartet – UFS. https://www.ufs.ac.za/humanities/departments-and-divisions/odeion-string-quartet-home/general/odeion-string-quartet (31 Augustus 2020 geraadpleeg).

Universiteit van die Vrystaat-Facebook-blad. s.j. https://www.Facebook.com/UFSUV (21 September 2020 geraadpleeg).

Van Coller, H.P. 2010. ’n Kritiese blik op enkele van die literêre pryse van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 50(4):484–501.

—. 2011. Literatuur in die marge: Die plek van die middelmoot-literatuur. LitNet Akademies, 8(2):66–89. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2020/12/LA_8_2d_van_coller.pdf (20 April 2019 geraadpleeg).

Van der Merwe, L. 2018. Dalene van die bos. Sarie, 1 Julie, ble. 39‒43.

Van der Westhuizen, A. 2020. Kommunikasie per e-pos, 1 Julie.

Van Rees, C.J. en G.J. Dorleijn. 1993. De impact van literatuuropvattingen in het literaire veld: aandachtsgebied literaire opvattingen van de Stichting Literatuurwetenschap. Den Haag: NWO. https://www.dbnl.org/tekst/rees001impa01_01/rees001impa01_01.pdf (26 April 2018 geraadpleeg).

Videos Club. 2020. The Italian Airforce gives a big emotional lift to their nation. 14 Maart. https://www.youtube.com/watch?v=jx-4pyU3XD0 (26 Maart geraadpleeg).

Visual Arts Network of South Africa, 2020. Expired: Arts & Culture Trust (ACT) professional development grants in music. 7 Julie. https://vansa.co.za/opportunities/arts-culture-trust-act-professional-development-grants-in-music (22 Julie 2020 geraadpleeg).

Vukani. 2020. Covid-19. Relief fund for artists. 29 April. https://www.vukaninews.co.za/entertainment/covid-19-artists-want-to-claim-from-emergency-rescue-relief-47330937 (22 Julie 2020 geraadpleeg).

Wakefield, J. 2020. Coronavirus: What is the sound of music during a pandemic? 25 April. https://www.bbc.com/news/technology-52295734 (22 Julie 2020 geraadpleeg).

 

Eindnotas

1 Die gebruik van e-pos-korrespondensie is gekontroleer en die rolspelers in hierdie ondersoek is gekontak om hul toestemming te kry om die korrespondensie te gebruik.

2 Enkele uitsonderings is narratiewe navorsingsuitsette deur Hanekom (2005), Kruger (2006) en Pretorius (2009).

3 Die lied (gesing deur JH) is later professioneel opgeneem en as deel van die produksie Klinkklaar op die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Facebook-blad uitgesaai.

4 Ses video’s is op twee platforms geplaas.

5 In die Afrikaanse letterkunde word die term middelmoot dikwels gebruik. Van der Merwe (2018:40) skryf dat daar tydens die skrywersberaad van die Afrikaanse Skrywersgilde in 1984 op Gordonsbaai “’n nuwe beskrywende woord” geskep is, naamlik middelmoot-lektuur vir letterkunde wat ondergeskik is “aan hogere letterkunde en ’n kop hoër as klubboekskrywers”. Kyk ook Van Coller (2011:84) se gebruik van die term.

6 Bourdieu se model word al baie lank – en veral in kultuurstudies en postkoloniale teorie – as verouderd gekritiseer. Tog is daar elemente van Bourdieu se werk wat wel getransponeer kan word na ’n eietydse situasie: “Contrary to received wisdom, Bourdieu did in fact offer a theory of colonialism and a systematic understanding of its effects and logics. Bourdieu portrayed colonialism as a racialized system of domination, backed by force, which restructures social relations and creates hybrid cultures. His theory entailed insights on the limits and promises of colonial reform, anticolonial revolution, and postcolonial liberation. Bourdieu’s early thinking on colonialism drew upon but extended French colonial studies of the time. It also contains the seeds of later concepts like habitus, field, and reflexive sociology while prefiguring more recent disciplinary postcolonial studies. Bourdieusian sociology in this sense originates not just as a study of Algeria but more specifically a critique of colonialism. It can be seen as contributing to the larger project of postcolonial sociology” (Go 2013:49).

Mahbub en Skoily (2016:7) skryf: “Bourdieu obviously did not mention cultural studies in this list of unbridled/interdisciplinary academic domains. As someone passionate about breaking the arbitrary boundaries of knowledge, Bourdieu might welcome the new and applied ways his thoughts, theories and concepts use different branches of knowledge. ‘Culture’ both as a map of collective life (habitus) and manner of distinctive lifestyle (cultural capital), are at the heart of Bourdieusian epistemology.”

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post ’n Verkenning van plaaslike musici se reaksies op die nasionale inperking as strategiese handelinge binne veldteoretiese denke appeared first on LitNet.

’n Normatiewe en prosesregtelike raamwerk vir die afneem van getuieverklarings en die beoordeling van teenstrydige getuienis

$
0
0

’n Normatiewe en prosesregtelike raamwerk vir die afneem van getuieverklarings en die beoordeling van teenstrydige getuienis

Inez Bezuidenhout, Departement Publiekreg, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 18(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

’n Aantal strafsake die afgelope ruk het die aandag gevestig op teenstrydighede tussen getuieverklarings voor ’n verhoor en getuienis gedurende die verhoor, en veral op die waarde van sulke afwykende verklarings as bewysmateriaal eerder as ’n blote instrument om ’n getuie as inkonsekwent en ongeloofwaardig af te maak. Die jongste saak waarin hierdie kwessie ter sprake gekom het, is die sogenaamde Coligny-sonneblomsaak, Doorewaard v Staat 2020-11-27 saaknr. 908/2019 (HHA). Wesenlike afwykings tussen ’n verklaring en hofgetuienis hang in ’n groot mate af van die konteks van die verklaring, en die proses vir die afneem van ’n verklaring kan weliswaar die bewyswaarde daarvan benadeel. Hierdie bydrae ondersoek onlangse hofbeslissings wat die inhoudelike waarde van teenstrydige verklarings beklemtoon het, en veral hoe die hof die wesenlikheid van die teenstrydighede beoordeel het. Die soeklig val op hoe getuieverklarings in ’n strafsaak afgeneem en aangebied word, en hoe dít uiteindelik die verloop van ’n strafsaak ingrypend kan beïnvloed. Dit het gou duidelik geword dat die Suid-Afrikaanse strafregstelsel baat kan vind by ’n objektiewe standaard en gepaardgaande regulasies vir sowel die afneem van verklarings as die beoordeling van teenstrydige getuienis. Daarbenewens het die staat ’n groot verantwoordelikheid om toe te sien dat die proses vir die afneem van getuieverklarings stelselmatig geskied om aanvegting in ’n verhoor so ver moontlik te beperk, en te verhoed dat getuienis aangebied word wat afbreuk doen aan prosedurele geregtigheid. Vir dié doel word ’n normatiewe en prosesregtelike raamwerk bepleit om die verklaringsproses te help verbeter en die beoordeling van afwykende getuienis te ondersteun. Dít sluit in die verfyning van ondersoekpraktyke en tegnieke vir die afneem van verklarings. ’n Stelselmatiger proses kan die afnemer van ’n verklaring dalk help om ’n getuie se eerstehandse weergawe van gebeure beter toe te lig sodat die bewyswaarde van die verklaring behoue bly en nie, soos in Doorewaard, in die geheel verwerp word nie.

Trefwoorde: bewyswaarde; Doorewaard; getuienis; getuieverklaring; strafsake; teenstrydighede

 

Abstract

A normative and procedural framework for taking depositions and evaluating conflicting evidence

Recently several criminal court trials focused attention on inconsistencies regarding witness statements before trial and testimonies during said trial. This focus is specifically relevant when regarding previous inconsistent statements as evidential material, rather than just viewing it as a way to discredit the relevant witness. The most recent case affected by this is the Coligny-sunflower case, Doorewaard v State 2020-11-27 case no. 908/2019 (SCA). In the latter instance the accused were found guilty of murder based on the evidence of a single witness. The guilty finding was overturned in the Supreme Court of Appeal. Gross inconsistencies were found when comparing the witness’s depositions before the trial and his testimony later in court. It is argued that the manner in which the extracurial statements were taken down in this case greatly influenced the evidential value of these statements. In this article the author analyses recent court decisions as they highlighted the content value of previous inconsistent statements and especially how the courts evaluated these inconsistencies as either material, or immaterial. In this submission, the lack of formal rules and regulations for the process of taking down a witness’s statement is explored; as well as the formal rules for the presentation and evaluation of previous inconsistent statements in court; and the evidential value of previous inconsistent statements in the evaluation of evidence in a criminal trial. The author analyses these concepts with specific reference to the Doorewaard case.

The South African criminal justice system should be improved by an objective standard and regulations pertaining to the taking of witness statements. It is the responsibility of the state to ensure that the process of taking down a witness’s statement is systematic and standardised in order to avoid unnecessary contention in court and to diminish incongruent witness testimony, as this negatively affects procedural justice. It is submitted that a normative and procedurally sound framework would improve the process of deposition, and also help with the accurate evaluation of incongruent testimony in court. This will include the honing of investigative practices and techniques for the taking down of witness statements.

The rules for the evaluation of the weight and evidential value of previous inconsistent statements in criminal trials have developed through the application in and interpretation of case law. However, to date, the initial process of taking down a witness statement remains to a large extent unregulated with no legislative guidelines on what processes should be followed and what steps the SAPS should practically apply. It is argued that without a clear and consistently applied regulatory framework for the taking down of a witness statement, the situation, as in the Doorewaard case, will persist.

In this case, the court had to draw a credibility finding on the evidence of the single witness by evaluating the testimony of the witness in court through comparing his evidence with the version of events as contained in the extracurial statements made prior to his evidence in court. Since the state relied mainly on the evidence of this witness to prove the case against the accused, the court had to reach a conclusion on the guilt of the accused based on interpreting the discrepancies in the different versions of the witness as either material, or not. This ultimately led to the guilty finding of the accused in the court a quo, after the trial judge found the discrepancies were immaterial. The Supreme Court of Appeal, however, viewed these discrepancies as material and both the accuseds’ guilty findings were set aside. The court will normally not interfere with the factual findings of the court a quo, but in this instance the discrepancies between the version of events as contained in the statements made by the witness and the witness’s evidence in court justified interference by the court on appeal. It is argued that the notable difference between the judgment of the court a quo and the Supreme Court of Appeal regarding the materiality of the discrepancies between the witness’s evidence in court and the version contained in his earlier statements necessitates the need to have standardized practices for the taking down of a witness statement to avoid procedural pitfalls during the trial.

Cultural and language differences between the deponent and the police officer who takes down the statement often hinder the accurate noting down of the recollection of events as experienced by the deponent. There are no practical measures to account for these differences before the matter is heard and inconsistencies are only highlighted during the hearing of the matter in court. There appears to be no guarantee that what was experienced by the deponent will always be correctly recalled in the statement, especially where the statement is a written synopsis by another, other than the person who made the statement. The inconsistencies between the extracurial statement of a witness and the witness’s evidence in court have a direct bearing on the finding regarding the credibility and reliability of the witness. The totality of the evidence presented can be affected by a faulty initial process.

A systematic approach can assist the police in accurately taking down the original recall of events, to safeguard the evidential value of the statement in court, as opposed to the situation in the Doorewaard case where it was rejected in its entirety.

In this submission, reference is made to the inability of the accusatorial trial procedure to secure the ascertainment of the material truth of a matter and the over-reliance on the technical presentation of evidence. The accusatorial trial procedure does not allow for the trier of fact to investigate the matter further than that which is presented by the parties. In criminal proceedings it is the duty of the state to furnish admissible evidence to enable the court to reach a just decision based on the holistic evaluation of the evidence presented. Courts rely on what is presented and if the process of presentation of evidence is flawed, the courts need to draw value judgements on what is essentially an inaccurate account of events. This does not serve society’s need for reassurance that justice will prevail, since the proven facts of the case do not necessarily equate to the actual occurrence of events. In order for the trier of fact to make an objective value judgement regarding the facts of a case, the presentation of evidence should be supported with trustworthy evidential material. The lack of an objective standard in terms of which the discrepancies between two versions of the events can be measured necessitates a value judgement on the weight of the discrepancies based on the subjective experience of the trier of fact. There is no normative component for whether discrepancies can be viewed as material or not. Human error in the process of evidence gathering should be limited as far as reasonably possible to guard against value judgements that are solely reliant on the individual understanding of the presiding officer.

Keywords: criminal trials; deposition; Doorewaard; evidential value; inconsistencies; testimony

 

1. Inleiding

In die onlangse strafappèl van Doorewaard v Staat1 (hierna Doorewaard) moes die Hoogste Hof van Appèl die verhoorhof se feitelike bevinding om ’n getuie se geloofwaardigheid en betroubaarheid te bepaal, in oënskou neem. Die appellante het die getuie se getuienis aangeveg op grond van beweerde teenstrydighede tussen sy verklaring en sy getuienis in die hof.

Dié saak en die uiteinde daarvan het nie net ’n opskudding in die gemeenskap veroorsaak nie; dit het ook ’n aansienlike leemte in die strafregstelsel blootgelê. Die opvallende gebreke in die afneem van die getuie se verklaring, en die skrille teenstelling tussen die verhoor- en appèlhof se beoordeling van die teenstrydige getuienis, dui op ’n behoefte aan ’n normatiewe en prosesregtelike raamwerk wat die afneem van getuieverklarings en die beoordeling van teenstrydige getuienis kan rig. So ’n raamwerk behoort maksimum objektiwiteit en prosedurele sekerheid te voorsien deur betroubaarheidswaarborge in te bou waar menslike optrede die proses van geregtigheid kan kniehalter.

In Suid-Afrikaanse verband maak veral twee faktore sodanige raamwerk dringend. Die eerste spruit uit die kulturele en taaldiversiteit van die land. In ’n diverse samelewing is daar dikwels taal- en kultuurverskille tussen die aflegger en afnemer van ’n verklaring, en soms ook verskille in geletterdheidsvlakke. Boonop beleef verskillende gemeenskappe ervarings verskillend en word die tegniese waarheid, waar die soeklig val op wat bewysregtelik aangebied en bewys kan word, meermale met kleurryke vertellings verweef. Sodoende gaan baie van die wesenlike waarheid (wat werklik gebeur het) van getuienis reeds in die afneem van getuieverklarings verlore. Die tweede faktor is die ongemaklike waarheid dat Suid-Afrikaanse polisieondersoeke, wat die afneem van getuieverklarings insluit, dikwels gebrekkig is, soos Doorewaard ook weer toon.

Nietemin is die proses vir die afneem van verklarings tot nog toe betreklik ongereguleerd. Buiten die gebruikregtelike reël dat getuieverklarings in die vorm van beëdigde verklarings afgeneem moet word, is daar geen wetlike voorskrifte vir die proses nie. Gevolglik word sommige verklarings afgeneem deur die aflegger die geleentheid te bied om self sy2 weergawe te verwoord en vas te lê; in ander gevalle voorsien die aflegger sy weergawe aan die afnemer, wat dit dan na die beste van sy vermoë in die verklaring probeer weergee (oorvertel). Dit verbaas dus nie dat verskille tussen getuieverklarings en mondelinge getuienis in die hof ’n betreklik algemene verskynsel in ons strafhowe is nie.

In my betoog vir ’n objektiewe raamwerk en regulasies vir die afneem van verklarings en die beoordeling van afwykende getuienis maak ek staat op akademiese literatuur en regspraak, waaronder Doorewaard en vroeër verbandhoudende sake. As agtergrond staan ek egter eers stil by ’n bondige oorsig van hoe ons strafhowe verskeie aspekte ten opsigte van teenstrydige getuieverklarings hanteer.

 

2. ’n Bondige oorsig van die benadering tot teenstrydige verklarings in die Suid-Afrikaanse strafregstelsel

Die reëls wat die uitleg en waarde van teenstrydige getuieverklarings bepaal, is oor tyd deur regspraak ontwikkel.3

2.1 Formele vereistes vir die afneem van ’n verklaring, en die hantering van teenstrydighede in die hof

2.1.1 Formele voorskrifte vir die afneem en samestelling van die verklaring

Schmidt4 sê die volgende oor die afneem van ’n beëdigde verklaring:

Die heersende beskouing is dat die regulasies wat vorm en wyse voorskryf nie gebiedend is nie, maar reëlend. Die verklaring is ’n beëdigde verklaring as daar wesenlike voldoening aan die regulasies was. Voorskrifte soos die dat twee vingers van die regterhand opgesteek moet word, dat die verklaarder gevra moet word of hy die eed as bindend vir sy gewete beskou, dat die plek, dag en maand van attestasie skriftelik uiteengesit moet word, en dat ondertekening deur beëdiging voorafgegaan moet word, is byvoorbeeld al as bloot reëlend beskou, sodat nie-voldoening oor die hoof gesien kon word. Ook die voorskrif dat die kommissaris die wyse waarop die verklaring afgelê is … moet notuleer, is bloot reëlend.

Dit is nie duidelik of daar tans enige staande regulasies vir die polisie is oor hoe verklarings afgeneem moet word nie. Die gebrek aan staande regulasies behoort oorweeg te word. Wanneer ’n getuie in die hof met ’n vroeëre teenstrydige verklaring gekonfronteer word, moet die getuie bevestig dat hy ’n verklaring afgelê het, en dat die betrokke verklaring syne is.5 Die bestaan en egtheid van die verklaring word dus eers vasgestel.6 In die praktyk beteken dít dat die oorspronklike verklaring in die hof aan die getuie getoon word, waarop hy moet bevestig of die handtekening onderaan die verklaring wel syne is. Die uitspraak in S v Govender7 (hierna Govender) bied ’n opsomming van hoe dít gedurende kruisondervraging gebeur.

In die reël ontvang ’n getuie nie ’n afskrif van sy verklaring nadat hy dit by die polisiestasie afgelê het nie, en kry dit dus eers weer te sien wanneer die staatsaanklaer dit voor getuienislewering aan hom voorlê. Daar is tans geen regsvoorskrifte waarvolgens ’n getuie daarop kan aandring om ’n afskrif van sy of haar getuieverklaring na aflegging daarvan te ontvang nie. Reeds hier sou ’n mens kon argumenteer dat (in die lig van billikheid van die verhoor en getuiebeskerming) enige toekomstige raamwerk vir die regulering van getuieverklarings daarvoor voorsiening behoort te maak dat getuies afskrifte van hul getuieverklarings ontvang. Aangesien enige beskuldigde persoon in elk geval geregtig is op getuieverklarings voordat die verhoor begin, sal so ’n reëling geensins geregtigheid en die regsproses vertroebel nie.8 Die getuie sal egter in ’n beter posisie wees om sy of haar geheue te verfris voor die aflegging van getuienis met die verklaring waarmee hy of sy vertroud is. Dit kan moontlik daartoe bydra dat die verhoor nie onnodig uitgestel of vertraag word nie as die aflegger van die verklaring die geleentheid gegee word om sy of haar verklaring onder oë te neem alvorens die verhoor weer kan hervat.

2.1.2 Bepaling van die omstandighede waarin, en werkswyse waarvolgens, die verklaring afgeneem is9

Daar bestaan tans geen regulasies wat die werkswyse uiteensit van hoe ’n getuieverklaring afgeneem moet word nie. Daar is ook geen regsvoorskrifte wat vereis dat die verklaring deur die verklaarder self verwoord moet word nie.

Waar die verklaring nie in die getuie se eie handskrif is nie, moet die getuie verduidelik hoe die verklaring afgeneem is. Die gebruik is om vas te stel of die getuie sy weergawe mondelings aan die afnemer oorgedra het, en of die afnemer dus die weergawe soos dit in die verklaring verskyn, bewoord het.10 Hierdie kwessies word veral gedurende kruisondervraging breedvoerig ondersoek. Waar die getuie self die verklaring neergeskryf het, dien dít as bevestiging dat die getuie die weergawe in die verklaring voorsien en dus ook gesien het.11 Waar die getuie egter aanvoer dat die verklaring ’n blote opsomming is van sy mondelinge weergawe, ontstaan daar onwillekeurig vrae oor die akkuraatheid daarvan.12

Dit is belangrik om daarop te let dat daar (in teenstelling met die aflegging van bekentenisse) nie normaalweg gedurende die aflegging van getuieverklarings ’n tolk gebruik word nie. Die verklaring word gewoonlik in Engels of Afrikaans verwoord, en nie in enige van die ander amptelike landstale nie. Dít is vanselfsprekend ook iets wat in ’n toekomstige reguleringsraamwerk vir getuieverklarings aandag behoort te ontvang. Gedagtig aan die erns en impak van ’n getuieverklaring, is daar geen rede waarom dit nie met dieselfde sorgsaamheid as ’n bekentenis afgeneem en opgestel kan word nie. In geval van taalverskille tussen die aflegger en afnemer van die verklaring, en by gebrek aan ’n tolk, behoort reëlings getref te word om die aflegging uit te stel totdat sowel die aflegger as afnemer gemaklik is daarmee dat die verklaring op skrif gestel word.

2.1.3 Geleentheid om teenstrydighede tussen ’n verklaring en getuienis in die hof te verduidelik13

Govender bied ’n volledige bespreking van hierdie stap.14 In die praktyk moet die spesifieke verskil(le) tussen die getuie se vroeëre verklaring en getuienis in die hof aan hom uitgelig word. Indien die getuie toegee dat die verskil(le) wel bestaan, word hy oor die wesenlikheid daarvan uitgevra.

2.1.4 Ondersoek na omstandighede van aflegging ingeval die getuie ontken dat hy die verklaring afgelê het

Dié proses kan op verskillende maniere gedurende die verhoor plaasvind,15 maar in wese moet getuienis aangebied word om enige bewering te staaf, en sal blote argumente van die verdediging (waar die getuie ’n staatsgetuie is) nie deug nie. Die afnemer van die verklaring word gewoonlik tot getuie geroep om oor die egtheid van die aflegger se verklaring en die wyse waarop dit afgeneem is, te getuig.16 Indien die verdediging op ’n vroeëre teenstrydige verklaring wil steun, moet sodanige verklaring ingehandig word, waarna dit as ’n bewysstuk sal dien.17

2.2 Die aanbieding en bewys van ’n teenstrydige verklaring teen ’n eie getuie

’n Party word oor die algemeen nie toegelaat om die geloofwaardigheid van sy eie getuie aan te val nie.18 Die party wat sy eie getuie deur middel van ’n vorige teenstrydige verklaring wil diskrediteer, het nie ’n ongekwalifiseerde reg daartoe nie.19

Artikel 190(2) van die Strafproseswet 51 van 1977 bepaal die proses wanneer ’n eie getuie teenstrydige getuienis aanbied:

So ’n party wat ’n getuie opgeroep het wat by bedoelde verrigtinge getuienis afgelê het (hetsy daardie getuie, na die oordeel van die hof, teenoor die party wat hom opgeroep het vyandig gesind is al dan nie), kan, nadat bedoelde party of die hof die getuie gevra het of hy voorheen ’n verklaring gemaak het al dan nie waarmee sy getuienis by bedoelde verrigtinge onbestaanbaar is, en nadat voldoende besonderhede van die beweerde vorige verklaring aan die getuie verstrek is om die geleentheid waarby dit gemaak is, te bepaal, bewys dat hy voorheen ’n verklaring gemaak het waarmee bedoelde getuienis onbestaanbaar is.

Hier gaan dit dus daaroor om ’n getuie verdag te maak.20 Kruger verduidelik die praktiese stappe van die proses soos volg:21 (a) Die getuie moet erken dat hy ’n vorige verklaring gemaak het, waarvan hy nou afwyk. (b) Hy moet weet na watter verklaring daar verwys word. Vir dié doel word die verklaring gewoonlik aan die getuie getoon en, indien hy dit as syne bevestig, as bewysstuk ingehandig. (c) Daarna kan die getuie aandui of sy vroeëre verklaring of sy getuienis in die hof korrek en/of die waarheid is. (d) Hy moet ook ’n geleentheid ontvang om die teenstrydighede op te klaar sodat sy getuienis nie in die geheel verwerp word nie. (e) Uiteindelik spreek die hof ’n waardeoordeel uit op grond van die redes wat vir die afwyking voorsien is.22 Hier is dit straks gepas om te argumenteer dat die getuie ’n behoorlike geleentheid behoort te ontvang om die verklaring na te gaan. Verkieslik moet daar nie van hom verwag word om hierdie beoordeling in die hof (onder hofpersoneel se waarneming) te doen nie. As dit nodig is, moet die saak uitgestel word sodat die getuie die verklaring in ’n meer ontspanne atmosfeer kan bestudeer.

Ons strafreg bied boonop die moontlikheid dat ’n getuie op grond van afwyking van die getuieverklaring tot ’n vyandige getuie verklaar kan word. Meintjes-Van der Walt23 bespreek dít volledig aan die hand van S v Mcoseli,24 wat toon hoe die gebrek aan ’n universele raamwerk vir die hantering van afwykende getuieverklarings reg en geregtigheid benadeel. In daardie saak is die getuie namens die staat opgeroep om te getuig oor die gebeure wat tot die oorledene se dood gelei het. Gedurende getuienisaflegging het die getuie enige kennis van dié gebeure ontken.25 In sy verklaring aan die ondersoekbeampte het hy egter die beskuldigde betrek by die skietvoorval wat die oorledene se dood veroorsaak het.26 Die staat het nooit die ondersoekbeampte wat die verklaring afgeneem het, tot getuie geroep nie, en dus is die bewering dat die verklaring aan die ondersoekbeampte gemaak is, nooit getoets nie. Die getuie het volgehou dat die verklaring verkeerd was, nooit aan hom teruggelees is nie, en dat hy dit ook nie onderteken het nie.27 Weens die versuim om die afnemer van die verklaring as getuie op te roep, was die staat gevolglik gebind deur die getuie se ontkenning van die vroeëre teenstrydige verklaring, en dit het die staat se saak aansienlik benadeel.28 Dit is haas ondenkbaar dat die hof, ondanks insae in ’n verdoemende verklaring teen die beskuldigde, nie minstens die saak kon uitstel om die afnemer se getuienis aan te hoor nie.

2.3 Die bewyswaarde van ’n vroeëre teenstrydige verklaring

Gemeenregtelik kan ’n vroeëre teenstrydige verklaring slegs gebruik word om inkonsekwentheid te bewys29 en die getuie se geloofwaardigheid af te takel of minstens te bevraagteken.30 Die verklaring kan nie as afdoende bewys dien van die feite wat daarin vervat is nie.31 In dié verband voer Bellengère e.a. aan:32

One of the most important purposes of cross-examination is to undermine the credibility of the witness who is being cross-examined. This does not necessarily mean that a party needs to show that the witness is deliberately being untruthful. The witness’s credibility can also be undermined if it can be shown that he or she is forgetful, uncertain or was just unobservant. One of the best ways to do this is to show the court that the witness has not been consistent in his or her evidence over time.

Om vas te stel in watter mate die teenstrydige verklaring die getuie se geloofwaardigheid beïnvloed, moet die aard en omvang van die teenstrydighede bepaal word.33 Hieroor het die hof in S v Bruiners34 (hierna Bruiners) die volgende gesê:

Ek is van mening dat ten einde ’n Staatsgetuie te diskrediteer sover dit sy getuieverklaring betref, dit steeds ’n vereiste is dat daar ’n wesenlike afwyking deur die getuie van sy getuieverklaring moet wees alvorens ’n negatiewe afleiding gemaak kan word. Nie-wesenlike afwykings in ’n getuieverklaring sal nie noodwendig afbreuk doen aan die gehalte van ’n Staatsgetuie se getuienis as ’n geheel nie. Die doel van ’n polisieverklaring is om besonderhede van ’n misdaad te bekom sodat daar besluit kan word of die beskuldigde vervolg moet word. Die getuieverklaring is nie om die getuie se getuienis in die hof vooruit te loop nie. Dit is vergesog om van ’n getuie te verwag om in sy getuieverklaring reeds presies dieselfde weergawe te verskaf as wat hy in die ope hof gaan getuig. Getuieverklarings bly nuttige ammunisie vir kruisondervraging, maar dan moet dit in konteks oorweeg word en sal die aard en omvang van die afwykings in geheel in ag geneem moet word alvorens dit gesê kan word dat ’n getuie se getuienis as gevolg van sulke afwykings verwerp moet word.35

Net soos in Bruiners, het die hof in S v Mafaladiso36 ook ’n minder formalistiese houding ingeneem deur te maan dat ’n getuie se weersprekings omsigtig benader moet word. Die hof beklemtoon dat daar baie noukeurig vasgestel moet word wat die getuie by elke geleentheid bedoel het om te verklaar, om uiteindelik te bepaal of daar werklik ’n afwyking is, en wat die aard en impak daarvan is. Die beginsels wat in Mafaladiso beskryf word, kan as volg opgesom word: ’n Mens moet in ag neem dat ’n verklaring nie deur middel van kruisondervraging afgeneem word, wat elke jota en tittel toets nie. Trouens, die aflegger word selde gevra om sy verklaring in besonderhede te verduidelik. Boonop kan taal- en kultuurverskille tussen die afnemer en aflegger van die verklaring veroorsaak dat wat in getuienis aangebied word, van die verklaring verskil, wat die werklike bedoeling en dus die waarheid kan vertroebel. Daarbenewens het nie elke afwyking of teenstrydigheid ’n invloed op die getuie se geloofwaardigheid nie. Nie-wesenlike afwykings is baiemaal irrelevant. Die weersprekende weergawes moet veel eerder holisties oorweeg word. In so ’n holistiese benadering, wat ek reken die grondslag vir ’n toekomstige normatiewe en prosesregtelike raamwerk kan uitmaak, behoort die hof die volgende in ag te neem: (a) die omstandighede waarin die verklaring(s) afgelê is, (b) die waarskynlike redes wat die getuie vir die weersprekings aangevoer het, (c) die werklike uitwerking van die weersprekings op die getuie se geloofwaardigheid en betroubaarheid, (d) of die getuie ’n redelike geleentheid ontvang het om die weersprekings te verduidelik, (e) die gehalte van sodanige verduidelikings, en (f) die verband tussen die weersprekings en die res van die getuie se getuienis.37

Daar moet deurgaans onthou word dat die hof uiteindelik die teenstrydige verklaring teen die viva voce-getuienis moet opweeg om te beslis of die verklaring (tekortkominge ten spyt) betroubaar is en dus as die waarheid aanvaar kan word.38 Ek sou voorstel dat die “substantiewe” waarheid (of te wel, wat werklik gebeur het) in hierdie beoordeling voorkeur bo die “tegniese” waarheid (of te wel, wat bewys kan word) behoort te geniet. Waar daar dus tegniese tekortkominge in die afneem en aanbieding van ’n afwykende verklaring was, behoort die hof na die “waarskynlike” of “wesenlike” waarheid te soek.

Die gemeenregtelike standpunt oor die beperkte waarde van ’n teenstrydige verklaring is opnuut in S v Mathonsi39 en S v Rathumbu40 in oënskou geneem. In albei beslissings is die staatsgetuies tot vyandige staatsgetuies verklaar.41 In Rathumbu het die verhoorhof te doen gekry met ’n teenstrydige getuieverklaring wat, indien die hof dit sou aanvaar, op die skuldigbevinding van die beskuldigde sou uitloop – wat weliswaar gebeur het. Die enigste geskil waaroor die appèlhof dus moes beslis, was of die verhoorhof korrek was om ’n teenstrydige skriftelike beëdigde verklaring deur die beskuldigde se suster as getuienis toe te laat.42 Kortom het die suster in haar vroeëre verklaring beweer dat sy gesien het hoe die beskuldigde (haar broer) die oorledene met ’n mes steek; in haar getuienis in die verhoorhof het sy egter ontken dat sy dit gesien het.43 Die grondslag van die verklaring is behoorlik in die hof bewys.44 Die staat het aansoek gedoen om die getuie ingevolge artikel 190 van die Strafproseswet tot vyandige getuie te verklaar.45 Nietemin het die hof die beskuldigde uiteindelik skuldig bevind deur op die inhoud van haar teenstrydige verklaring aan die polisie te steun en haar mondelinge getuienis te verwerp.46 Die Hoogste Hof van Appèl bevestig dat die verhoorhof reg was om op die inhoud van die suster se vroeëre teenstrydige verklaring staat te maak,47 onder meer in die lig van die omstandighede waarin die getuie haar verklaring aan die polisie afgelê het.48 Die hof beslis voorts dat ander getuienis van die staat wesenlike stawing gebied het vir die betroubaarheid van die getuie se polisieverklaring.49 Die appèlhof het die toelaatbaarheid van die teenstrydige verklaring aan die hand van hoorsêgetuienis ingevolge artikel 3(1) van die Wysigingswet op die Bewysreg 45 van 1988 en met verwysing na S v Ndhlovu50 beoordeel.51

Met dít as agtergrond gaan ek vervolgens oor tot ’n bespreking van Doorewaard, synde die finale blootlêer van die behoefte aan groter regsekerheid, objektiwiteit en struktuur in die hantering van teenstrydige getuieverklarings in ons strafhowe.

 

3. Doorewaard v Staat 

Die beskuldigdes in Doorewaard, of “die Coligny-sonneblomsaak” soos dit algemeen bekend is, was twee wit mans wat albei in 2017 deur regter Hendricks in die provinsiale hooggeregshof van Noordwes, Mahikeng skuldig bevind is aan moord op ’n vyftienjarige swart seun. Die beskuldigdes is in 2019 tot onderskeidelik 18 en 23 jaar gevangenisstraf gevonnis. Albei se aansoek om verlof tot appèl is geweier, waarna hulle suksesvol na die Hoogste Hof van Appèl geappelleer het.

Die bespreking in die volgende paragrawe handel uitsluitlik oor die moordklag, en nie die klagte waarop die appellante ingevolge artikel 174 in die hof a quo ontslaan is nie.52 Die tersaaklike aangeleentheid is dus die eerste en tweede appellante se appèl teen hul skuldigbevindings.53

Ek laat my nie uit oor die meriete van die uitsprake nie, maar gebruik die saak eerder om die dringende behoefte aan ’n objektiewe raamwerk (sowel substantief as prosessueel) vir die hantering van teenstrydige getuieverklarings te beklemtoon.

3.1 Die feitelike agtergrond van die appèl

Die vyftienjarige seun het aan sy wonde beswyk toe die appellante hom na bewering van ’n bewegende bakkie afgegooi het.54 Albei appellante het appèl aangeteken nadat die hooggeregshof hulle skuldig bevind het aan moord. Die hooggeregshof moes ’n feitelike bevinding maak op grond van twee weersprekende weergawes van die gebeure wat die seun se dood voorafgegaan het, wat onderskeidelik deur die staat en die verdediging as getuienis gebruik is.55

Die staat moes hier op die getuienis van ’n enkelgetuie staatmaak. Volgens dié getuie se verklaring was hy op die dag van die voorval te voet op pad na ’n informele woongebied om iemand daar te gaan besoek. Luidens sy verklaring het hy ’n geweerskoot uit ’n sonneblomland gehoor, en gesien hoe die tweede appellant met ’n vuurwapen na ’n vierwielaangedrewe motorfiets hardloop. Die tweede appellant het met die motorfiets na die eerste appellant toe gery, wat in daardie stadium saam met ’n ander man in ’n bakkie was. Die getuie het die seun om hulp hoor roep. Die getuie het gesien hoe die tweede appellant by die bakkie aansluit en agterop klim. Die eerste appellant het die bakkie bestuur, met die ander onbekende man voorin en die seun agterop. Hierna het die getuie gesien hoe die tweede appellant die seun van die bewegende bakkie afgooi. Die bakkie het gestop, die tweede appellant het die seun opgetel en weer op die bakkie gelaai, waarna hulle teruggery het tot waar die vierwielaangedrewe motorfiets geparkeer was.56 Die getuie het ook ’n uitgebreide relaas gelewer oor die konfrontasie wat hy hierna met die appellante gehad het.57

In hul aanvegting van die getuie se getuienis het die verdediging aangevoer dat die getuie nie op die toneel teenwoordig was soos hy getuig het nie.58 Die verdediging het aangevoer dat die seun self van die bewegende bakkie moes afgespring het terwyl die appellante met hom na die plaaslike polisiestasie op Coligny op pad was.59

3.2 Die aflegging van die getuie se polisieverklaring

Die getuie is aanvanklik by die polisiestasie weggejaag toe hy ’n klag aanhangig wou maak omdat die polisiebeampte aan diens gedink het die man is onder die invloed.60 Die getuie is daarna na ’n adjudantoffisier (“S”) se huis, waar lede van die gemeenskap bymekaargekom het. Ook daar is hy onverrigtersake weggejaag. Gevolglik is sy verklaring eers op die Sondag ná die Donderdag van die voorval afgeneem.61

Die getuie het verder aangevoer dat die appellante hom die Saterdag by sy huis besoek het en na bewering wou weet of hy die voorval aangemeld het.62 Hy is dieselfde dag weer polisiestasie toe, waar hy dieselfde vrouebeampte aangetref het wat die eerste keer geweier het om sy verklaring af te neem.63

Nadat die getuie uiteindelik ’n skoolhoof se hulp ingewin het, het “S”, by wie die getuie onder meer die Donderdag was, die getuie na die polisiestasie geneem waar sy verklaring afgeneem is.64 Die getuie het onder andere beweer dat hy aangesê is om leë polisievorms te onderteken.65 Die staat het nóg die skoolhoof nóg “S” opgeroep om die getuie se getuienis te staaf.66

3.3 Die beoordeling van die getuienis

Ofskoon die appellante se weergawes van hoe die oorledene van die bakkie verdwyn het, nie die Hoogste Hof van Appèl tevrede gestel het nie, kon die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys nie, en albei appellante is dus onskuldig bevind en ontslaan.67 Die hof het voorts beslis dat daar geen getuienis of feite was op grond waarvan die verhoorhof enige redelike afleiding kon maak dat die appellante die oorledene van die bakkie afgegooi het nie. Die deskundige mediese getuienis het ook nie dié afleiding van die verhoorhof gesteun nie.68

Wat vir hierdie bydrae van belang is, is die Hoogste Hof van Appèl se beslissing oor hoe die verhoorhof na regte die verskille tussen die getuie se verklaring en getuienis in die hof moes beoordeel het. Die verhoorhof het bevind dat die weersprekings nie wesenlik was nie, en dat daar geen rede was waarom die getuie die moeite sou doen om die besonderhede van die verskillende tonele en die gebeure by elk te versin nie.69

In sy verklaring het die getuie byvoorbeeld aangevoer dat die oorledene herhaaldelik (drie keer) van die bakkie afgegooi en toe weer opgelaai is. In sy getuienis in die hof het hy egter gesê dat hy net gesien het hoe die oorledene een keer van die bakkie afgegooi word, en dat hy onseker was oor die ander twee kere. Wat hierdie getuienis betref, het waarnemende appèlregter Ledwaba bevind: “Interestingly, the trial court found this unexplained discrepancy not to be material.”70

Daarbenewens het die verhoorhof beslis dat die patoloog se deskundige getuienis bevestig dat die oorledene van die bakkie afgegooi is. Ook hiérmee het die Hoogste Hof van Appèl verskil. Volgens die appèlhof was daar, afgesien van die getuie se getuienis, geen direkte of bevredigende bewyse dat die oorledene van die bakkie afgegooi is nie, en die wesenlike teenstrydighede in die beskikbare getuienis was rampspoedig vir die staat se saak teen die appellante. Boonop was daar geen stawing vir die getuie se weergawe nie.71

Sowel die verhoor- as die appèlhof het hul misnoeë met die erge tekortkominge in die ondersoek van die saak uitgespreek.72 Dít het die volgende ingesluit:

(a) Dat die staat nóg die skoolhoof nóg adjudantoffisier “S” tot getuies geroep het om die getuie (hierna “die enkelgetuie” om verwarring te voorkom) se weergawe te staaf.73

(b) Dat ten spyte daarvan dat die enkelgetuie die Sondag reeds die plek aan “S” uitgewys het waar die seun na bewering van die bewegende bakkie afgegooi is, “S” hom meegedeel het dat hy die forensiese ondersoekspan eers die volgende dag na die toneel sou ontbied.74

(c) Dat ten spyte daarvan dat die provinsiale hoof van georganiseerde misdaad en ’n amptelike fotograaf die toneel die Maandag ná die gebeure besoek het, daar geen foto’s van bloed geneem is nie.75 Die enkelgetuie het die Sondag nog bloed op die toneel gesien.76 Die polisiebeampte wat die foto’s van die toneel geneem het, het vyf-en-twintig jaar ondervinding in die polisie, en tien jaar as amptelike fotograaf en plantekenaar. In sy verklaring het hy geen melding daarvan gemaak dat die enkelgetuie bloedmonsters aan hom uitgewys het nie.77

(d) Dat die fotograaf genoem het dat ’n verdere getuie teenwoordig was met die uitwys van die toneel waar die foto’s geneem is,78 maar dat dié getuie nie in sy getuienis genoem het dat hy daar was toe die foto’s geneem is óf toe die enkelgetuie die toneel uitgewys het waar die oorledene gevind is nie. Die verdere getuie het ook niks van bloed gesê nie.79

(e) Dat die polisiekommissaris getuig het dat die enkelgetuie geweet het van twee verdagtes, en nie drie soos wat die enkelgetuie in sy verklaring beweer het nie.80

(f) Dat die enkelgetuie aangevoer het dat hy die oorledene die laaste keer in die bakkie gesien het voordat hy self sy bewussyn verloor het. Gevolglik kon die enkelgetuie nie sien waar die oorledene geëindig het nie, want hy was bewusteloos toe die ambulans die oorledene opgelaai het.81

Dít het vrae oor die enkelgetuie se teenwoordigheid by die voorval laat ontstaan: Waarom het hy nie vir mediese behandeling gegaan vir die beserings wat die appellante hom na bewering toegedien het nie?82 Hoe het hy geweet dat die oorledene deur sy mond, neus en ore gebloei het?83 Hoe het hy geweet dat die eerste appellant die voertuig bestuur het?84

Hoewel twee van die drie appèlregters oor die uitslag van die appèl saamgestem het, het die drie regters aparte uitsprake geskryf. Appèlregter Ponnan se uitspraak het sekere verdere noemenswaardige opmerkings bevat.

3.4 Opmerkings deur appèlregter Ponnan

In sy uitspraak het appèlregter Ponnan die moontlike ingrypende impak van ’n vervolgingsbesluit deur die staat onderstreep:

The mere decision to prosecute can have a far-reaching impact on an accused person’s life. It should not be lightly made, because even if an accused is ultimately acquitted, the harm already suffered could prove to be irreparable.85

Met verwysing na S v Van der Westhuizen86 het hy ook gesê:

It is not the function of a prosecutor ‘disinterestedly to place a hotchpotch of contradictory evidence before a court, and then to leave the court to make of it what it will’.87

Indien die getuienis in die dossier behoorlik nagegaan is, met inagneming van die openbare belang en die reg, het die appèlregter gesê, sou die aanklaer nie anders kon as om te twyfel of daar genoegsame en toelaatbare getuienis was om redelik te glo dat die appellante ’n misdryf gepleeg het, en of daar minstens ’n redelike vooruitsig op skuldigbevinding was nie.88

Daarbenewens het appèlregter Ponnan in sy uitspraak die enkelgetuie se getuienis én die verhoorhof se beoordeling daarvan breedvoerig gekritiseer.89 Die enkelgetuie se getuienis is in drie verklarings aan die polisie vervat. Die proses vir die afneem van die eerste verklaring, wat die getuie aan “S” afgelê het, het kortliks soos volg verloop: Die getuie het “S” vertel wat gebeur het, en moes toe leë amptelike polisievorms onderteken. “S” het die getuie se weergawe ex post facto op die ondertekende bladsye oorgeskryf. Hierdie verklaring is nie aan die getuie gegee om te lees óf aan hom voorgelees nie.90 Die tweede verklaring, wat aan die nuwe ondersoekbeampte afgelê is, is wel aan die getuie voorgelees; die getuie kon dit ook deurlees, en was tevrede met die inhoud.91 Ook die derde verklaring is aan die nuwe ondersoekbeampte afgelê.92 Tog het die staat nooit dié beampte as getuie opgeroep nie. Die enkelgetuie het gedurende kruisondervraging bevestig dat hy drie verklarings afgelê het omdat hy getraumatiseer was en nuwe inligting hom voortdurend bygeval het.93

Die appèlregter het ook op die verskille tussen veral die getuie se tweede verklaring en sy getuienis gedurende kruisondervraging gewys.94 Die getuie se weergawe in die hof het in ’n aantal opsigte wesenlik van die inhoud van sy verklarings verskil, onder meer wat betref die getal keer wat die oorledene van die bakkie afgegooi is,95 die aanranding op die getuie self,96 en hoeveel persone by die voorval betrokke was.97 Boonop was daar teenstrydighede tussen die roete wat die enkelgetuie fisies uitgewys het as die pad wat die appellante met hom gery het, en die roete wat hy in sy tweede verklaring beskryf het.98 Selfs sy teenstrydige getuienis oor die vuurwapens wat na bewering in die voorval gebruik is, moes, volgens appèlregter Ponnan, nie geringgeskat word nie.99

Wat Doorewaard by uitstek illustreer, is dat die feitebeoordelaar in die Suid-Afrikaanse strafregstelsel slegs ’n stelling as waar kan beskou as daar praktiese sekerheid daaroor bestaan.100 Die strafhof kan hom nie deur waarskynlike waarhede of onbewese oortuigings laat lei nie.101

 

4. Die akkusatoriese soeke na die tegniese waarheid

Die soeke na die waarheid, die wyse waarop dit in ’n strafsaak geskied, en die koorddans tussen gemeenskapswaardes, reg en geregtigheid, is moeilike, multidissiplinêre kwessies waarmee die mensdom reeds eeue lank worstel. In ’n multikulturele samelewing soos Suid-Afrika, en veral ook teen die agtergrond van Doorewaard, is dié stryd duidelik ver van afgehandel. Nietemin is daar ’n paar rigtingwysers in ons soeke na die mees gepaste manier om die waarheid vas te stel.

Volgens Chambers is die belangrikste in die soeke na die waarheid straks hóé die waarheid bepaal moet word.102 Monaghan vergelyk in dié verband die inkwisitoriale en akkusatoriese stelsels:

While the inquisitorial system of trial is clearly truth-centred with the trial judge acting as an investigator to determine the facts, the adversarial system is less truth-centred. … [T]he prosecutor’s job is to make the fact-finders sure that the defendant is guilty, while defence counsel will hope to inject doubt into their minds such that they cannot be sure of his guilt.103

Die reëls en prosedures van ’n strafregstelsel behoort ’n weerspieëling te wees van hoe die individu in die samelewing die waarheid bepaal,104 wat op daaglikse ervaring berus. Derhalwe moet die bewysregtelike reëls weerspieël watter getuienis volgens die gemeenskap nuttig is om veronderstellings as waar te bewys.105 Indien bewysregtelike reëls nie weergee hoe die gemeenskap werklik die waarheid bepaal nie, definieer dit nie die waarheid soos die gemeenskap dit definieer nie,106 en behoort daardie reëls dus nie te geld nie.107

Dit is die hof se taak om te beoordeel óf en wátter getuienis geloofwaardig is, welke oordeel dikwels op grond van aanvoeling en ervaring uitgespreek word.108 Chambers illustreer dít aan die hand van die Esopus-fabel oor die seun en die wolf. Die seun het oor en oor valslik beweer dat ’n wolf hom aanval, en die dorpenaars het hom later nie meer geglo nie. Toe ’n wolf uiteindelik wel die seun aanval en die kind om hulp roep, het niemand hulle aan die geroep gesteur nie. Op grond van die gemeenskap se ervaring het hulle geglo dat die kind se laaste geroep ook vals is, al was dit dié keer eg.109 In die beoordeling van getuienis beweeg mense van bekende na onbekende ervarings. Indien alle ervarings dieselfde was, kon ’n mens maklik enige nuwe ervaring uitsluitlik op grond van vorige ervarings beoordeel het. Hoewel die gevolgtrekking oor die nuwe omstandighede verkeerd sou wees, sal die beoordelingsproses minstens redelik wees. Maar in die een of ander stadium moet ’n beoordelaar ongestaafde verklarings ontleed en oor die juistheid daarvan besluit, waarvoor hy op aanvoeling eerder as bewyse staatmaak.110 Hoe hy ongestaafde verklarings beoordeel, hang hoofsaaklik af van die waarheid van soortgelyke verklarings wat hy al voorheen gehoor het.111 Dus, om terug te keer na Esopus se fabel, indien die dorpenaars nou weer ’n seun se hulpkrete sou hoor, sou hul reaksie bepaal word deur hul vorige ondervinding met ’n seun wat een keer te veel alarm gemaak het, en sou hulle waarskynlik anders reageer.112

Die besluitneming van die feitebeoordelaar in die Suid-Afrikaanse strafregstelsel is meer beperk as die gemeenskap se oordeel. Terwyl die gemeenskap hulle op die waarskynlike waarheid of onbewese oortuiging kan beroep,113 kan die feitebeoordelaar in die strafregstelsel slegs as waar aanvaar dít waaroor daar praktiese sekerheid bestaan.114 In Doorewaard was daar byvoorbeeld groot gemeenskapsonrus oor die voorval, wat waarskynlik deur rassespanning en opvattings van rassebevoordeling en -ongelykhede aangestook is. Tog was die hof in sy oordeel oor die saak beperk tot wat hy rasioneel, binne die perke van die regstelsel, kon doen. Maar selfs as ’n mens die swak ondersoekwerk en power aanbieding van die saak in die hof tersyde stel, laat die uiteinde van die saak ’n mens met meer vrae as antwoorde.

Ons strafregstelsel is geskoei op die leer dat die staat ’n beskuldigde se skuld bo redelike twyfel moet bewys. As die staat nie kan nie, moet die beskuldigde die voordeel van die twyfel ontvang. Dit is binne hierdie raamwerk wat die redelike persoon die Hoogste Hof van Appèl se uitspraak moet verstaan. Of hierdie kernbeginsel van die verdedigingsreg altyd die regsbewussyn tevrede stel, is egter te betwyfel. Gedagtig aan die gebreke in die hantering van die getuie in Doorewaard en die afneem van sy verklaring, is ’n mens geneig om te dink dat daar meer gedoen kon word om uit die staanspoor die waarde van sy verklaring op te klaar. Hierdie leemte kan waarskynlik oorbrug word as feitebeoordelaars in ons strafregstelsel ’n meer aktiewe rol in die afneem van getuieverklarings vervul.

 

5. Voorstelle vir ’n normatiewe en prosesregtelike raamwerk vir die afneem van getuieverklarings en die beoordeling van teenstrydige getuienis

Doorewaard beklemtoon ’n verdere werklikheid, naamlik dat daar selfs in die mees objektiewe beoordeling van feite verskille kan ontstaan na gelang van hoeveel waarde die verskillende feitebeoordelaars aan afwykings in getuieverklarings heg. Uiteindelik is die beoordeling van feite dus noodwendig subjektief. Hierdie saak onderstreep die gebrek aan ’n objektiewe standaard aan die hand waarvan teenstrydighede in getuienis beoordeel kan word. Die lynregte verskille in beoordeling tussen die twee uitsprake in die provinsiale hof (die verhoorhof én die hof wat verlof tot appèl geweier het) en die uitsprake van die Hoogste Hof van Appèl kon voorkom geword het deur die toepassing van ’n eenvormige normatiewe en prosesregtelike raamwerk.

Ongelukkig is dit onwaarskynlik dat die voorskrifte van die akkusatoriese strafregstelsel veel beweegruimte laat vir die inbou van betroubaarheidswaarborge om die bewyswaarde van teenstrydige getuienis te verreken. Uiteindelik is die verhoorhof aangewese op die staatsmasjinerie om tersaaklike en toelaatbare getuienis voor te lê. By gebrek aan sulke getuienis, kan ’n grondige, holistiese oordeel nie uitgespreek word nie, en word die proses van ’n billike verhoor in die wiele gery. Daarom kan die probleem slegs werklik ondervang word met vollediger polisieondersoeke, beter metodes vir die afneem van getuieverklarings en meer waarborge dat getuies ’n behoorlike geleentheid sal ontvang om teenstrydighede in hul onderskeie verklarings te verduidelik. Die staat het ’n verantwoordelikheid om die getuie te ondersteun deur bewys te lewer dat die getuienis op ’n prosessueel regverdige manier verkry is. Daarsonder word die verhoor ’n blote soeke na die tegniese waarheid, ten koste van die wesenlike waarheid.

Wat verbeteringe in die afneem van verklarings betref, behoort die verklaringsproses eerstens meer stelselmatig te wees sodat die staat beter kan bepaal of daar weliswaar ’n prima facie-saak vir vervolging bestaan. In plaas daarvan dat die staat sy eie getuie as vyandig moet verklaar weens teenstrydighede tussen ’n verklaring en getuienis in die hof, behoort afwykings uit die staanspoor uitgeskakel of ten minste beperk te word.

Tweedens moet die prosessuele gevolge van die afneem van ’n verklaring sterker beklemtoon word in die staatsaak. In die lig daarvan dat die inhoud van ’n teenstrydige verklaring bewysmateriaal daarstel, en nie bloot op inkonsekwentheid dui nie, word daar aan die hand gedoen dat die voorsittende beampte mero motu in staat gestel moet word om daarop aan te dring dat die afnemer van die verklaring opgeroep word om wesenlike bewerings oor die proses van aflegging toe te lig indien die staat in dié opsig misluk. Voordat die (on)geloofwaardigheid en (on)betroubaarheid van ’n getuie bepaal word, moet daar immers eers vasgestel word of die verklaring korrek afgeneem is. Die staat behoort verantwoordelikheid te aanvaar om sy getuie teen sieldodende kruisondervraging te beskerm deur van die begin af sy sake in orde te kry. Die billikheid van die proses voordat die getuie onder kruisverhoor getuig, raak die staatsgetuie se belange direk. Deel van die staat se plig behoort te wees om as roetine die afnemer van die getuieverklaring op te roep om die prosessuele grondslag vir die afneem van die verklaring te verduidelik. Om van ’n lekegetuie te verwag om gebrekkige prosesse en ondersoekwerk te probeer verduidelik veroorsaak nie net onnodige vertragings in ’n verhoor nie; indien iets in sy verduideliking oor die afleggingsproses dalk onwaarskynlik sou klink, skep dit ook met die wegspring reeds twyfel oor die getuie se geloofwaardigheid en stel dit hom aan verdere en onnodige kruisondervraging bloot.

’n Verdere voorstel in dié verband is om van die afnemer te verwag om ’n behoorlike klousule by die verklaring aan te heg waarin hy die proses van afneming duidelik weergee. ’n Blote sin wat sê dat die getuie die verklaring gelees het en/of dat dit aan hom voorgelees is voordat hy dit onderteken het, is nie ’n behoorlike prosessuele betroubaarheidswaarborg nie.

 

6. Gevolgtrekking

Aan die hand van die bespreking hier bo, sou Doorewaard anders verloop het indien daar ’n normatiewe en prosesregtelike raamwerk vir die afneem van verklarings en die beoordeling van teenstrydige getuienis was. Die saak sou óf nooit op vervolging uitgeloop het nie, wat die betrokkenes aansienlike geld, tyd, moeite en emosionele trauma kon gespaar het, óf tot suksesvolle vervolging gelei en reg en geregtigheid laat seëvier het.

 

Bibliografie

Bellengère, A. (red.), T. Illsley, N. Melville, B. Naudé, M. Nkutha, R. Palmer, E. Picarra, S. Reddy, L. Roberts, C. Theophilopoulos, A. van der Merwe en B. Whitcher. 2013. The law of evidence in South Africa: basic principles. Kaapstad: Oxford University Press.

Chambers, H.L. 1998. Reasonable certainty and reasonable doubt. Marquette Law Review, 81(3):655–704.

Engelbrecht, J. 1988. Straf- en prosesreg: Aanval op die geloofwaardigheid van jou eie getuie. De Rebus, Februarie: 105–7.

Joubert, J.J. (red.), D. Ally, G.P. Kemp, M.T. Mokoena, J.P. Swanepoel, S.S. Terblanche en S.E. van der Merwe. 2020. Criminal procedure handbook. 13de uitgawe. Claremont: Juta.

Kruger, A. 2010. Hiemstra Suid-Afrikaanse strafproses. 7de uitgawe. Durban, Johannesburg en Kaapstad: LexisNexis.

Meintjes-Van der Walt, L. 2012. Law of evidence. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Strafregspleging, 25(3):421–9.

Monaghan, N. 2015. Law of evidence. Verenigde Koninkryk: Cambridge University Press.

Naudé, B.C. 2013. The substantive use of a prior inconsistent statement. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Strafregspleging, 26(1):55–66.

Schmidt, C.W.H. 1989. Bewysreg. 3de uitgawe. Durban: Butterworths.

Schwikkard, P.J. en S.E. van der Merwe. 2015. Principles of evidence. 4de uitgawe. Claremont: Juta.

 

Eindnotas

1 2020-11-27 saaknr. 908/2019 (HHA).

2 Tensy die konteks anders aandui, sluit verwysings na een geslag ook die ander in.

3 Schwikkard en Van der Merwe 2016:492 met verwysing na S v Muhlaba 1973 3 SA 141 (R), R v Kupeka 1957 1 SA 399 (A), R v Tladi 1924 KPA 545, Rex v Beukman 1950 4 SA 261 (O), R v Deal 1929 TPA 259, S v Mathonsi 2012 1 SASV 335 (KZD), S v Tshabalala 1999 1 SASV 163 (T), International Tobacco v United Tobacco 1 1955 2 SA 1 (W), S v Bruiners 1998 2 SASV 432 (SOK), S v Mafaladiso 2003 1 SASV 583 (HHA), S v Mostert 2006 1 SASV 560 (N), S v N 1979 4 SA 632 (O), S v Govender 2006 1 SASV 322 (OK), S v Mathonsi 2012 1 SASV 335 (KZD), en S v Rathumbu 2012 2 SASV 219 (HHA).

4 (1989:247).

5 Kruger (2010:516).

6 Schwikkard en Van der Merwe (2016:492).

7 2006 1 SASV 322 (OK) 327b–f.

8 Sien in hierdie verband Shabalala v Attorney-General, Transvaal; Gumede v Attorney-General, Transvaal 1995 2 SASV 761 (GWH) 37, 72; Joubert e.a. (2020:256–7).

9 Schwikkard en Van der Merwe (2016:492).

10 Sien in hierdie verband Kruger (2010:519) met verwysing na R v Nyede 1951 3 SA 151 (T).

11 Sien in hierdie verband Schwikkard en Van der Merwe (2016:475) met verwysing na R v O’linn 1960 1 SA 545 (N) en S v Smuts 1972 4 SA 358 (T).

12 Engelbrecht (1988:106).

13 Schwikkard en Van der Merwe (2016:492) met verwysing na S v Muhlaba 1973 3 SA 141 (R).

14 2006 1 SASV 322 (OK) 327b–f.

15 Schwikkard en Van der Merwe (2016:492) met verwysing na R v Tladi 1924 KPA 545. ’n Voorbeeld van so ’n proses is ’n verhoor binne ’n verhoor.

16 Schwikkard en Van der Merwe (2016:492) met verwysing na R v Kupeka 1957 1 SA 399 (A).

17 Schwikkard en Van der Merwe (2016:492).

18 Schwikkard en Van der Merwe (2016:486–7) met verwysing na R v Wellers 1918 TPA 234.

19 Schwikkard en Van der Merwe (2016:488).

20 Kruger (2010:517).

21 Kruger (2010:518).

22 Kruger (2010:518–9).

23 (2012).

24 2012 2 SASV 82 (OKG).

25 (2012:422) met verwysing na par. 82b van die uitspraak.

26 Meintjes-Van der Walt (2012:423).

27 Ibid, met verwysing na par. 84 van die uitspraak.

28 Meintjes-Van der Walt (2012:424).

29 Schwikkard en Van der Merwe (2016:492).

30 Kruger (2010:516).

31 Schwikkard en Van der Merwe (2016:494).

32 (2013:157).

33 Schwikkard en Van der Merwe (2016:493) met verwysing na International Tobacco v United Tobacco 1 1955 2 SA 1 (W), S v Bruiners 1998 2 SASV 432 (SOK), S v Mafaladiso 2003 1 SASV 583 (HHA), en S v Mostert 2006 1 SASV 560 (N).

34 1998 2 SASV 432 (SOK) 437g–38a.

35 Schwikkard en Van der Merwe (2016:493).

36 2003 1 SASV 583 (HHA).

37 S v Mafaladiso 2003 1 SASV 583 (HHA) 593e−h.

38 593e–94h. Sien ook Schwikkard en Van der Merwe (2016:493).

39 2012 1 SASV 335 (KZP).

40 2012 2 SASV 219 (HHA).

41 Schwikkard en Van der Merwe (2016:494, 496).

42 Naudé (2013:58).

43 Ibid. Sien ook Schwikkard en Van der Merwe (2016:494) met verwysing na parr. 5, 11 van die uitspraak.

44 Schwikkard en Van der Merwe (2016:494) met verwysing na parr. 6, 11 van die uitspraak.

45 Schwikkard en Van der Merwe (2016:494–5) met verwysing na par. 5 van die uitspraak.

46 Schwikkard en Van der Merwe (2016:495) met verwysing na par. 7 van die uitspraak.

47 Schwikkard en Van der Merwe(2016:494–5). Sien ook S v Rathumbu 2012 2 SASV 219 (HHA) parr. 5–7.

48 Schwikkard en Van der Merwe (2016:495) met verwysing na par. 11 van die uitspraak.

49 Naudé 2013:59. Sien ook Schwikkard en Van der Merwe (2016:495) met verwysing na par. 11 van die uitspraak.

50 2002 2 SASV 325 (HHA).

51 Naudé (2013:58) met verwysing na par. 31 van die uitspraak.

52 10, parr. 19 en 20.

53 3, par. 1.

54 3, par. 2.

55 Ibid.

56 4, par. 3.

57 4–6, parr. 4–8.

58 3, par. 2.

59 3–4, par. 2.

60 6, par. 9.

61 6–7, par. 9.

62 7, par. 10.

63 Ibid 7.

64 7, par. 11.

65 Ibid.

66 Ibid.

67 Parr. 42–4.

68 Par. 41.

69 Par. 24.

70 Par. 38.

71 Ibid.

72 Par. 36.

73 7, par. 11.

74 8, par. 12.

75 9–10, par. 18.

76 12, par. 26.

77 13, par. 28.

78 13, par. 27.

79 13, par. 28.

80 13–4, par. 29.

81 13, par. 27.

82 12, par. 23b.

83 12, par. 23c.

84 12, par. 23d.

85 Par. 80.

86 2011 ZASCA 36; 2011 2 SASV 26 (HHA) 11.

87 Par. 81.

88 Par. 83.

89 Parr. 84, 85, 108,116.

90 Par. 86.

91 Par. 87.

92 Ibid.

93 Par. 88.

94 Parr. 89, 90.

95 Parr. 91, 92.

96 Parr. 93–8.

97 Parr. 99–101.

98 Parr. 102–4.

99 Parr. 106–7.

100 Chambers (1998:681).

101 Ibid.

102 Chambers (1998:677).

103 (2015:22).

104 Chambers (1998:677).

105 Chambers (1998:678).

106 Chambers (1998:679).

107 Ibid.

108 Chambers (1998:680).

109 Ibid.

110 Ibid.

111 Chambers (1998:680–1).

112 Chambers (1998:681).

113 Ibid.

114 Ibid.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post ’n Normatiewe en prosesregtelike raamwerk vir die afneem van getuieverklarings en die beoordeling van teenstrydige getuienis appeared first on LitNet.

Kernafskrikking in ’n tydperk van ingrypende tegnologiese ontwikkeling: Hoe kwesbaar is kernaangedrewe ballistiesemissielduikbote werklik?

$
0
0

Kernafskrikking in ’n tydperk van ingrypende tegnologiese ontwikkeling: Hoe kwesbaar is kernaangedrewe ballistiesemissielduikbote werklik?

Eben Coetzee, Departement Politieke Studie en Regeerkunde, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 18(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Akademici en militêre kenners is dit vandag byna eens dat verskeie militêr-tegnologiese ontwikkelinge die onkwesbaarheid van kernstate se tweedeslaanaanvalsmagte bedreig en by implikasie die moontlikheid van ’n eerste slaanaanval verhoog. Die tweedeslaanaanvalsmagte van kernstate is die hoeksteen van ’n kernafskrikkingstrategie. Kernaangedrewe ballistiesemissielduikbote (BMDK’s) word gewoonlik as die onkwesbaarste been van die tweedeslaanaanvalsmagte van kernstate beskou. Diepgaande tegnologiese ontwikkelinge in afstandswaarneming, tesame met die verskuiwing na onbemande sensors en sensorplatforms, sal luidens verskeie akademici en militêre kenners die oseane in die toekoms toenemend deursigtig maak en gevolglik die onkwesbaarheid van BMDK’s ondermyn. In die stryd tussen duikbote en teenduikbootoorlogvoering (TDO) swaai die slinger toenemend in die guns van laasgenoemde. Derhalwe sal kernstate dit toenemend moeilik vind om BMDK’s vir TDO-magte te verberg. Die primêre navorsingsvraag van hierdie ondersoek is: Teen die agtergrond van diepgaande tegnologiese ontwikkelinge in TDO, hoe kwesbaar is BMDK’s as die hoeksteen van die tweedeslaanaanvalsmagte van kernstate werklik en watter implikasies vir kernafskrikking spruit hieruit voort? Deur gebruik te maak van ’n literatuurstudie van die evolusie van TDO, met inbegrip van diepgaande ontwikkelinge in duikbootoorlogvoering, wys hierdie ontleding dat die pessimisme oor die kwesbaarheid van BMDK’s (en gevolglik die tweedeslaanaanvalsmagte van kernstate) ongegrond is en dat die stabiliteit van kernafskrikking sal voortduur. Dié gevolgtrekking word deur vier bevindinge gerugsteun. Een, om ’n enkele BMDK (wat nog te sê ’n hele BMDK-mag) op te spoor, te agtervolg en te vernietig, is haas onmoontlik. Twee, die geskiedenis van TDO wys dat ontwikkelinge in militêre tegnologie nooit slegs in een rigting beweeg nie. Drie, tegnologiese ontwikkelinge in TDO bring nooit ’n beslissende oorwinning in die stryd teen die opsporing en belangriker, die vernietiging van BMDK’s mee nie. Vier, die geskiedenis van TDO leer dat maritieme geografie, met inbegrip van oseanografie, uiters belangrik vir beide TDO en duikbootverberging is.

Trefwoorde: duikbote; kernaangedrewe ballistiesemissielduikbote (BMDK’s); kernafskrikking; kernwapens; sensors; teenduikbootoorlogvoering (TDO)

 

Abstract

Nuclear deterrence in an era of sweeping technological developments: How vulnerable are ballistic missile submarines really?

Today, it is widely argued and, within certain military and academic circles, unequivocally accepted that various military-technological developments render the second-strike forces of nuclear states increasingly vulnerable. Where the second-strike forces of nuclear states become increasingly vulnerable, a strategy based on deterrence becomes inefficacious, thus increasing the prospect of a pre-emptive attack. The second-strike forces of nuclear states have traditionally been rendered invulnerable by deploying the so-called “nuclear triad” consisting of intercontinental ballistic missiles (ICBMs), strategic bombers, and ballistic missile submarines (SSBNs). Given the patent shortcomings of ICBMs and the (apparent) vulnerability of strategic bombers to missile defences, the quiet submarine has traditionally been considered the least vulnerable leg of the nuclear triad. Moreover, SSBNs are deemed highly efficacious platforms due to their stealth and attendant ability to penetrate enemy defences and conduct various missions.

However, sweeping technological developments in remote sensing, coupled with the shift towards unmanned sensors and sensor platforms, will ostensibly make the oceans increasingly transparent, thus rendering SSBNs increasingly vulnerable to detection and, possibly, destruction. Five trends undergird arguments that developments in remote sensing are making the oceans more transparent: one, sensor platforms have become increasingly diverse; two, the spectrum of signals collected by sensors, and the techniques used for this purpose, have widened; three, remote sensing platforms are increasingly marked by persistent observation; four, part of the revolution in remote sensing is the attendant ongoing improvement in sensor resolution; and finally, these four developments are undergirded by improvements in data transmission. In the battle between hiders and seekers or, differently phrased, submarines and anti-submarine warfare (ASW), the pendulum is, it seems, swinging in the direction of the latter. Accordingly, nuclear states are likely to find it increasingly difficult in the future to conceal SSBNs from the “eyes” and “ears” of ASW forces.

The primary research question of this study is: Against the backdrop of sweeping technological developments in ASW, how vulnerable are SSBNs as the cornerstone of the second-strike forces of nuclear states really and what are the implications for nuclear deterrence that follow from this? The study is based on a literature study of the evolution of ASW (from the early development of the submarine to the current era) while also paying particular attention to various developments in submarine development and warfare. The conclusion reached from this analysis is that pessimism concerning the (future) vulnerability of SSBNs is unfounded and that the stability of nuclear deterrence is likely to endure remarkably well in the future. Based on examining historical and current developments in ASW and submarine warfare, four key findings are derived that inform the conclusion reached.

Firstly, to detect, trail and, most importantly, destroy a single SSBN (let alone an entire SSBN force) is hardly an easy task. Thus, even if some technologies may facilitate the detection of submarines in the future, the problem of destroying a single SSBN (again, let alone an entire SSBN force) remains a particularly vexing one. Secondly, the history of ASW provides powerful evidence that developments in military technology are never unidirectional. Thus, where innovative ASW developments and solutions emerge, it stands to reason that we can also expect innovative pro-submarine developments, strategies, tactics and solutions. In fact, such pro-submarine developments are already unfolding and keeping pace with ASW developments.

Thirdly, technological developments in ASW have never yielded a definitive victory in the battle against the detection, trailing and, most importantly, the destruction of SSBNs, a proposition that is likely to endure remarkably well in the future. Even the best surveillance and detection systems are fraught with limitations. Moreover, a successful ASW strategy requires the successful integration of multiple independent factors, inter alia, multiple ASW forces, highly efficacious ASW concepts, considerable investment, maritime geography, and the expertise of ASW forces. There is today only one navy (i.e. the United States Navy) capable of engaging in full-spectrum ASW, a feat that should not conceal the harsh reality that even the US Navy cannot detect, trail and, importantly, destroy all the SSBNs – and all of them at once – of an adversary.

Finally, the history of ASW powerfully attests to the importance of maritime geography and, concomitantly, oceanography for both ASW and submarine concealment. Current and future acoustic surveillance systems are likely to remain dependent on real estate for signal processing. The concomitant result is that maritime geography will be more favourable to some states than others. At the same time, oceanographic data are becoming increasingly voluminous owing to the use of underwater gliders, which in turn strengthens submarine efforts to operate more quietly and avoid detection. In addition, the growing industrial use of the oceans, coupled with the increase in the number of states deploying (and yet to deploy) submarines, will further hamper efforts to detect SSBNs.

Accordingly, this analysis illustrated that sweeping developments in particularly remote sensing would not render the pre-eminent pillar of states’ second-strike forces, to wit SSBNs, increasingly vulnerable. Nuclear deterrence is likely to endure remarkably well in the future. Emerging technological developments, notably big data, artificial intelligence, and quantum computing, are often envisioned as key developments that will most likely increase the efficacy of ASW forces by 2050. Unlike developments in remote sensing, such possible future developments, and their implications for ASW and submarine warfare, are too vague to assess today. At any rate, three reasons provide grounds for optimism concerning the future invulnerability of SSBNs and the stability of nuclear deterrence, notwithstanding the future direction of technological development. One, it is highly unlikely that any future technology will render the oceans completely transparent. Two, the history of ASW powerfully illustrates that the battle between submarines and ASW forces is an ongoing one. In this battle, it is improbable that developments in ASW will ever yield a definitive victory for ASW forces. Finally, and undoubtedly the most important reason, even if some or other technology facilitates the easy detection of SSBNs, a strategy of nuclear deterrence will only be upended, and the possibility of a pre-emptive attack increased, if a would-be aggressor believes that all the SSBNs of a nuclear state can be destroyed and all of them at once. Accordingly, today and in the foreseeable future, we have sufficient grounds for believing that SSBNs are likely to remain the least vulnerable leg of the nuclear triad.

Keywords: anti-submarine warfare (ASW); ballistic missile submarines (SSBNs); nuclear deterrence; nuclear weapons; sensors; submarines

 

1. Inleiding

Akademici en militêre kenners is dit vandag byna eens dat verskeie militêr-tegnologiese ontwikkelinge die onkwesbaarheid van die tweedeslaanaanvalsmagte van kernstate ondermyn (Layne 2020:34; Clark, Cropsey en Walton 2020; Klare 2020; Geist en Lohn 2018; Lieber en Press 2018; Lieber en Press 2017). Die tweedeslaanaanvalsmagte van kernstate vorm die hoeksteen van ’n kernafskrikkingstrategie en verwys na “die eerste teenaanval met kernwapens in ’n oorlog nadat ’n eerste slaanaanval met ’n voldoende vermoë tot effektiewe vergelding oorleef is” (Venter, Botha, Du Plessis en Alberts 2017:172). Waar die tweedeslaanaanvalsmagte van kernstate toenemend kwesbaar word, word ’n strategie geskoei op kernafskrikking nietig, en verhoog die waarskynlikheid van ’n voorkomende aanval (“pre-emptive attack”) (Klare 2020). ’n Voorkomende aanval het ten doel om die tweedeslaanaanvalsmagte van ’n kernstaat te vernietig sodat vergelding onmoontlik is (Waltz 2013:17). Die toenemende kwesbaarheid van die tweedeslaanaanvalsmagte van kernstate en, terselfdertyd, die moontlikheid van ’n voorkomende aanval, verhoog die moontlikheid van konvensionele of kernoorlog met rasse skrede.

Die onkwesbaarheid van die tweedeslaanaanvalsmagte van kernstate word vandag oorwegend deur die sogenaamde kerntriade (“nuclear triad”), bestaande uit bomwerpers, interkontinentale ballistiese missiele (IKBM’e) en kernaangedrewe ballistiesemissielduikbote (BMDK’s),1 verseker. Reeds sedert die laat 1980’s waarsku kernwaarnemers soos Thomas Schelling egter dat IKBM’e “’n bron van verleentheid” is, juis omrede hulle uiters kwesbaar vir ’n voorkomende aanval is (Snyder, Pelopidas, Lieber en Press 2018:192; alle vertalings van aanhalings uit bronne is deur die artikelskrywer). Bomwerpers is weer kwesbaar vir toenemend gesofistikeerde lugverdedigingsisteme (Clark e.a. 2020:27). Gegewe die klaarblyklike tekortkominge van bomwerpers en IKBM’e, word BMDK’s deur die bank as die onkwesbaarste deel van die kerntriade voorgehou (Clark e.a. 2020:27). Die doeltreffendheid van BMDK’s berus op hul sluipvermoë (“stealth”) en derhalwe hul vermoë om die verdediging van die vyand stilletjies te infiltreer en verskeie opdragte (o.a. verkenningstogte en aanvalsoorlogvoering) uit te voer (Clark e.a. 2020:39). Diepgaande tegnologiese ontwikkelinge in afstandswaarneming (“remote sensing”), met inbegrip van onbemande sensors en sensorplatforms (spesifiek: onbemande lugvaartuie (OLV), onbemande onderwatervaartuie (OOV) en onbemande oppervlakskepe (OOS)), bied toenemende uitdagings vir die sluipvermoë (en derhalwe die kwesbaarheid) van BMDK’s en swaai die slinger toenemend in die guns van teenduikbootoorlogvoering (“anti-submarine warfare” (ASW), oftewel TDO).

Diepgaande ontwikkelinge in TDO-sensors en -platforms beloof oënskynlik om die onkwesbaarheid van BMDK’s en met inbegrip hiervan, die tweedeslaanaanvalsmagte van kernstate te ondermyn. Die prent wat hiér geskets word, is derhalwe een van diepliggende pessimisme oor die voortdurende stabiliteit van kernafskrikking. Met dít in gedagte, tree die primêre navorsingsvraag van hierdie ondersoek na vore: Teen die agtergrond van diepgaande tegnologiese ontwikkeling in TDO, hoe kwesbaar is BMDK’s as die hoeksteen van die tweedeslaanaanvalsmagte van kernstate werklik en watter implikasies vir kernafskrikking spruit hieruit voort? Aan die hand van ’n literatuurstudie van die evolusie van TDO, met inbegrip van diepgaande ontwikkelinge in duikbootoorlogvoering, wys hierdie ontleding dat die pessimisme oor die kwesbaarheid van BMDK’s (en by implikasie die tweedeslaanaanvalsmagte van kernstate) ongegrond is en dat die stabiliteit van kernafskrikking sal voortduur. Die struktuur van die artikel is soos volg. Die ondersoek skenk allereers aandag aan die ontstaan en ontwikkeling van ondersese oorlogvoering in die tydperk vanaf Antieke Griekeland tot en met 1945. Tweedens word die evolusie van TDO gedurende die Koue Oorlog bespreek. Derdens, teen die agtergrond van die Koue Oorlog en met spesifieke verwysing na ontwikkelinge in afstandswaarneming en onbemande sensors en platforms, word TDO in die konteks van die hede én die toekoms bespreek. Vierdens word lesse vanuit die geskiedenis van TDO, met inbegrip van die uitdagings om BMDK’s op te spoor, te agtervolg en te vernietig, in die konteks van die navorsingsvraag bespreek. Die artikel sluit af met ’n opsomming van die vernaamste bevindinge en skenk kortliks oorweging aan die waarskynlikheid dat ander tegnologieë, wat vandag nog te vaag is ten einde hul uitwerking op BMDK’s te verreken, die oseane in die toekoms deursigtig sal maak.

 

2. Die evolusie van TDO: Antieke Griekeland tot 1945

Ondersese oorlogvoering maak reeds sedert die vroegste tye deel uit van oorlogvoering. Die Griekse historikus Thucydides vermeld dat duikers met groot sukses gedurende die beleg van Sirakuse (213–212 VHJ) ingespan is, terwyl Alexander die Grote na oorlewering tydens die beleg van Tirus (332 VHJ) van duikers en duikerklokke gebruik gemaak het (Emley 2017; National Oceanic and Atmospheric Administration 2001:2). Land- en seemyne is reeds sedert die 14de eeu deur Chinese ingenieurs ontwikkel en deur Engeland tydens die beleg van La Rochelle (1627) gebruik (Clark e.a. 2020:14). Tydens 1771–1775 word die wêreld se eerste duikboot, die Turtle, deur die Amerikaner David Bushnell ontwerp (Naval History and Heritage Command 2017). Dat die Turtle primitief was, is natuurlik vanselfsprekend, maar die ontwerp het weliswaar die vier basiese vereistes vir ’n suksesvolle militêre duikboot omvat, te wete die vermoë om te kan duik, beweging onder die water, die voorsiening van voldoende lugtoevoer vir die duikbootoperateur en die vermoë om operasies teen oppervlakskepe te loods (Naval History and Heritage Command 2017).

Die ontwikkeling van die Whitehead-torpedo in 1866 het die weg gebaan vir die ontwikkeling van selfaangedrewe torpedo’s en het ’n beduidende invloed op ondersese oorlogvoering uitgeoefen (Moe 2003:1). Gegewe dat enersyds, duikbote gedurende hierdie tydperk deur onbetroubare aandrywing en dryfvermoë gekortwiek is en andersyds, die Whitehead-torpedo slegs ’n lanseerbuis vereis het en op enige oorlogskip aangewend kon word, het torpedobote (en nié duikbote nie) tot die laat 19de eeu die taktiese voorrang geniet (Clark e.a. 2020:15). Dit was veral die Franse Vloot wat die ontwikkeling van die torpedo koorsagtig aangewend het deur ’n vloot vinnige torpedobote en langafstandkaperskepe (“long-range commerce raiders”) te ontwikkel, gepaardgaande met langtermynbelegging in duikbootontwikkeling (Clark e.a. 2020:15). Die Franse Vloot se aanwending van torpedobote het weer die Britse Vloot en die Duitse Vloot genoop om torpedojaers te ontwikkel (wat later weer op torpedo-toegeruste torpedojaers uitgeloop het) (Clark e.a. 2020:15).

Die eerste volwaardige moderne duikboot, die Holland, is gedurende 1900 deur die Amerikaanse Vloot in gebruik geneem (Cote 2003:5). Die Holland, in teenstelling met voorafgaande duikbote, was die eerste ontwerp wat ’n binnebrandenjin (vir oppervlakoorlogvoering) met ’n batteryaangedrewe elektriese motor (vir ondersese oorlogvoering) gekombineer het (Cote 2003:5). In ’n poging om die Franse voordeel voortspruitend uit die aanwending van die torpedo te kelder, het veral die Verenigde Koninkryk en Duitsland gedurende die vroeë 1900’s toenemend klem op ondersese oorlogvoering geplaas (Clark e.a. 2020:15). Albei dié lande het voorsien dat deur te duik, duikbote onsigbaar word, wat hulle in staat sou stel om kragtige oppervlakskepe stilletjies te nader en ’n torpedo-aanval onder die waterlyn (waar ’n vaartuig die kwesbaarste is) te loods (Cote 2003:5). Die sluipvermoë en onderwaterslaankrag van duikbote is reeds van meet af die beslissende eienskappe van die duikboot, met die noodsaaklikheid van mobiliteit wat ietwat later bygevoeg is (Sasgen 2009:41).

2.1 Die Eerste Wêreldoorlog

In albei wêreldoorloë het die duikboot ’n beslissende rol gespeel om die seemoondhede se drang na seebeheer te ondermyn, ’n uitkoms voortspruitend uit die wisselwerking van twee faktore: enersyds, die inherente vermoëns van die duikboot as ’n nuwe, revolusionêre wapen en andersyds, die onvermoë of onwilligheid van die destydse seemoondhede om die nuwe bedreiging te voorsien en dienooreenkomstig vernuwende teenduikbootmaatreëls te ontwikkel (Cote 2003:1). In die dekade voor die Eerste Wêreldoorlog het ’n snelle sintese in tegnologie meegebring dat duikbote oor drie basiese rolle beskik het, te wete kusverdediging, maritieme afslyting (“naval attrition”) en handelsoorlog (Lautenschlager 1986:139). Dit is veral laasgenoemde, te wete handelsoorlog, wat die primêre rol van die duikboot gedurende die Eerste Wêreldoorlog uitgemaak het, ’n rol wat terloops nie voor die oorlog deur enige van die seemoondhede ernstig oorweeg is nie.

Met die aanvang van die Eerste Wêreldoorlog het die Duitse Vloot oor 24 U-bote (“U-boats”) beskik; ’n bykomende 340 is gedurende die oorlog vervaardig en 199 is eindelik vernietig (Lindsey 1976:30). Die Duitse veldtog teen die handelsvloot van die Geallieerdes het egter eers vroeg in 1915 begin, met onbeperkte duikbootoorlogvoering wat eers teen Februarie 1917 in volle swang gekom het (Cote 2003:6). Drie faktore het die Duitse Vloot toenemend in die rigting van ’n strategiese skuif na die gebruik van duikbote teen handelsvaartuie gedruk: een, die oorhand van die Britse Vloot se oorlogskepe (veral die nuwe Britse gevegskruisers) vergeleke met dié van Duitsland; twee, die onvermoë (weens tegnologiese beperkinge in afstand en spoed) van duikbote om oorlogskepe te agtervolg, te herposisioneer en ’n aanval te loods; en drie, die Britse blokkade van die Noordsee en die Engelse Kanaal, wat Duitse logistiek erg geknou het (Clark e.a. 2020:16; Janicki 2014).

Die bedreiging wat die Duitse Vloot vir die Geallieerde handelsvloot ingehou het, was beduidend. Gedurende 1914–1918 het Duitse U-bote ongeveer 13 miljoen grootton gesink en gedurende April tot Junie 1917 alleen, het U-bote meer tonnemaat gesink as gedurende 1916 en, selfs meer verwoestend, dubbel die hoeveelheid vergeleke met 1915 (Clark e.a. 2020:17). Dit was slegs gedurende die laaste jaar van die oorlog dat die Geallieerdes daarin kon slaag om die Duitse U-bootbedreiging die hoof te bied, en veral deur die gebruik van ’n TDO-taktiek wat eweneens gedurende die Tweede Wêreldoorlog aangewend is, te wete konvooitaktiek (Friedman 2019:18). Die gebruik van konvooitaktiek, wat veral tot volle krag ontwikkel het na die Amerikaanse toetrede tot die oorlog, het ten doel gehad om die Geallieerde handelsvloot te beskerm deur handelskepe saam te groepeer (d.i., in ’n konvooi) eerder as dat skepe onmiddellik vaar nadat hulle hul vrag ontvang het (Clark e.a. 2020:17). Voorts was dié konvooie onder militêre geleide, met die Britse Vloot en die Amerikaanse Vloot wat torpedojaers en seepatrollievliegtuie (“maritime patrol aircraft”) ingespan het om konvooie deur welbekende duikbootjagvelde te vergesel (Clark e.a. 2020:17). ’n TDO-strategie geskoei op konvooie onder militêre geleide het egter eise aan die Britse Groot Vloot gestel (gegewe die voortbestaan van die Duitse Hoogseevloot), met die gevolg dat die Britse Vloot en die Britse handelsvloot waarskynlik nie die U-bootbedreiging sonder Amerikaanse hulp sou oorleef het nie (Cote 2003:7).

2.2 Die tydperk tussen die twee wêreldoorloë

In die tydperk tussen die twee wêreldoorloë het ondersese oorlogvoering groter voorrang geniet én meer gesofistikeerd geraak (Clark e.a. 2020:17). Die duikbote van die Eerste Wêreldoorlog was in der waarheid niks meer nie as oppervlakskepe wat slegs geduik het om ’n aanval te loods of aan gesofistikeerde oppervlakskepe te ontsnap. Wanneer dié duikbote wél geduik het, het hulle ’n aansienlike mate van mobiliteit, tydruimtelike bewustheid (“situational awareness”) en eindelik slaankrag ingeboet (Cote 2003:8). Sodanige beperkinge het grotendeels uit tegniese beperkinge voortgespruit, hoewel dit óók tekenend was van verwagtinge oor die primêre missie van duikbote, te wete kusverdediging of vlootondersteuning, wat beide die moontlikheid van aanvalle op vlootbates veronderstel het, waarteen oppervlakgevegte buitengewone risiko’s ingehou het (Cote 2003:8).

Begrotingsbeperkinge gedurende die tydperk het ’n beduidende uitwerking op die wydverspreide vervaardiging en toets van TDO-tegnologie gehad; gevolglik was innovasie in TDO hoofsaaklik doktrinêr van aard (Clark e.a 2020:17). Teen die agtergrond van lesse uit die Eerste Wêreldoorlog geleer en met die oog op ’n toekomstige seeoorlog, het die bevelvoerder van die Duitse duikbootvloot (later admiraal) Karl Dönitz voorsien dat ’n grootskaalse duikbootveldtog teen die Geallieerde handelsvloot Brittanje op sy knieë sou dwing (Clark e.a. 2020:18). Dönitz het egter (korrek) voorsien dat die Geallieerdes ’n strategie geskoei op konvooitaktiek onder militêre geleide sou aanwend. Die Duitse veldtog teen die Geallieerde handelsvloot gedurende die Eerste Wêreldoorlog het gewys dat duikbootaanvalle teen handelskepe uiters doeltreffend gedurende die nag, op die oppervlak, en op kort afstand geloods kon word, ten spyte van die teenwoordigheid van ’n militêre geleide (Cote 2003:8). ’n Groter uitdaging was om die uitwerking van hierdie aanvalle te vergroot en met dié vraagstuk in gedagte, het Dönitz die sogenaamde wolwetroptaktiek (“wolf pack tactics” of Rudeltaktik in Duits) ontwikkel, ’n taktiek wat aanvanklik met groot welslae gedurende die Tweede Wêreldoorlog gebruik is (Howe 1971:62). Hiervolgens is voorsien dat groepe Duitse U-bote, by wyse van gekoördineerde taktiek, die konvooie van die Geallieerdes sou konfronteer, en sodoende sou baie U-bote voordeel kon trek uit die opspoor van ’n enkele konvooi (Howe 1971:62).

Met die wolwetroptaktiek in gedagte, het Duitse duikbootontwerpers koorsagtig te werk gegaan om die afstand, reikafstand (“range”) en slaankrag van Duitse duikbote te verbeter (Cote 2003:8). Op hul beurt, het die Japannese Vloot ’n leidende rol in die ontwikkeling van nuwe torpedo’s en seemyne gespeel (Clark e.a. 2020:17). Die verdere ontwikkeling van hoëfrekwensieradio as ’n bevel-en-beheermeganisme was sentraal tot die ontwikkeling van die Duitse wolwetroptaktiek, en het oor-die-horison- kommunikasievermoëns vanaf ’n betreklik klein, swak sender (“low-powered transmitter”) moontlik gemaak (Cote 2003:8). Die hoëfrekwensieradio het duikbote in staat gestel om konvooiwaarnemings aan ’n sentrale bevelspos te kommunikeer, waarna die inligting aan alle duikbote in die onmiddellike omgewing versprei is (Cote 2003:8).

Die Duitse U-bootbedreiging vir die konvooi-gebaseerde Geallieerde handelsvloot gedurende die Eerste Wêreldoorlog het beide die Amerikaanse Vloot en die Britse Vloot in die tydperk tussen die twee wêreldoorloë genoop om meer doeltreffende TDO-tegnologie te ontwikkel (Hackmann 1986:87). Daar is algemeen aanvaar dat ondersese waarneming ’n beduidende rol in TDO kon speel en die uiteinde hiervan was die ontwikkeling van die eerste aktiewe sonar, die “Allied Submarine Detection Investigation Committee” (ASDIC) (Fitzgerald en Pittenger 2019). Hoewel daar gedurende die Eerste Wêreldoorlog geredelik van hidrofone gebruik gemaak is, en duikbote soms etlike kilometer ver gehoor kon word, was passiewe sonar gedurende dié oorlog weens twee redes uiters beperk. Die eerste rede was die vereiste dat vlootvaartuie (toegerus met passiewe sonar) geheel en al tot stilstand moes kom ten einde te verseker dat die gedruis van hul eie vaartuie nie die duikbootsein verdoof nie. Die tweede rede was die onvermoë van passiewe sonarstelsels om die rigting én die afstand na ’n teiken te verskaf (Cote 2003:9). Die koms van ASDIC het dié beperkinge uit die weg geruim, soveel so dat ’n Britse admiraal reeds gedurende 1921 gespog het dat die Britse Vloot voldoende beskerming aan toekomstige konvooie kon bied deur die aanwending van ASDIC (Hackman 1986:87).

2.3 Die Tweede Wêreldoorlog

Die Tweede Wêreldoorlog was van meet af deur die Duitse veldtog van onbeperkte duikbootoorlogvoering en in reaksie hierop, Britse konvooitaktiek gekenmerk. Ofskoon die intensiteit van ondersese oorlogvoering gedurende die laaste jare van die Eerste Wêreldoorlog uiters hoog was, was die intensiteit van die Duitse veldtog van onbeperkte duikbootoorlogvoering aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog aanvanklik laer. Twee redes kan hiervoor aangevoer word: een, die Duitse Vloot, en dié van die Geallieerdes, het betreklik min duikbote tot hul beskikking gehad; en twee, uiteenlopende operasionele eise is aan hierdie betreklik min duikbote gestel (Cote 2003:9). Aan die begin van die oorlog het die Duitse Vloot oor 57 duikbote beskik, waarvan slegs 27 seevarende Tipe VII’s of IX’s was (Cote 2003:9). Teen Desember 1941 kon die Duitse Vloot egter 80 duikbote per dag in die Atlantiese Oseaan ontplooi; teen Maart 1943, ’n indrukwekkende 160 duikbote per dag; en ongeveer 80–120 tot en met Augustus 1944 (Clark e.a. 2020:19). Die betreklik klein getal Duitse duikbote aan die begin van die oorlog het óók beteken dat Duitse wolwetroptaktiek aanvanklik onuitvoerbaar was, ’n probleem wat eers ten volle met die koms van meer duikbote uit die weg geruim is.

Nieteenstaande die betreklik klein duikbootgetalle, het Duitse U-bote gedurende die eerste jaar van die oorlog steeds aansienlike skade aan die Geallieerde handelsvloot berokken. Cote (2003:9) vermeld dat gedurende Junie tot Oktober 1940, die Britse handelsvloot 1,4 miljoen grootton aan die hand van Duitse U-bote verloor het, ’n verlies wat des te meer kommerwekkend was gegewe die feit dat 30% van dié Britse handelskepe deur konvooie onder militêre geleide vergesel was. Dié aanvalle het duidelik gewys dat ASDIC-toegeruste konvooie geheel en al ondoeltreffend teen die Duitse U-bootbedreiging was, selfs wanneer individuele duikbote opgeduik en aanvalle vanaf die oppervlakte geloods het (Cote 2003:9). Namate die Duitse duikbootmag vergroot het, het die aanvalle teen die Geallieerde handelsvloot met rasse skrede toegeneem. Gedurende die eerste ses maande van 1942 het die Geallieerdes byna 3,6 miljoen grootton verloor en gedurende Maart 1943 alleen, ongeveer 693 389 grootton (Roskill 1956:103, 485). Dié verliese het kragtig getuig dat die Duitse Vloot gedurende die tydperk tussen die twee wêreldoorloë die doktrinêre stryd tussen enersyds, ASDIC-toegeruste konvooie onder militêre geleide en andersyds, Duitse wolwetroptaktiek gewen het (Cote 2003:10). Nieteenstaande dié vlietende oorwinning, het verskeie TDO-tegnologieë (en innoverende TDO-strategieë) die Geallieerdes in staat gestel om ’n ommeswaai in hul stryd teen die Duitse U-bote te bewerkstellig (Clark e.a. 2020:10).

Waarskynlik was die deurslaggewende TDO-tegnologie in die stryd teen die Duitse U-bootbedreiging die ontwikkeling en aanwending van radar-toegeruste TDO-seepatrollievliegtuie (Cote 2003:10). Verbeteringe in seepatrollievliegtuie was noodsaaklik vir die Geallieerdes se konvooitaktiek: die beperkte afstand van dié vliegtuie het ruimte vir Duitse U-bote gelaat om ’n dekkingsgaping (die sogenaamde “mid-Atlantiese-Oseaan-gaping”) uit te buit, waartydens wolwetroptaktiek uiters doeltreffend uitgevoer kon word (Clark e.a. 2020:10). Die sukses van luggebaseerde TDO het uit die koppeling van mikrogolfradar met langafstandbomwerpers voortgespruit: radar het seepatrollievliegtuie in staat gestel om duikbote op die oppervlak sowat 20 tot 30 seemyl (37,04–55,56 kilometer) ver op te spoor én langafstandbomwerpers het die weg gebaan vir seepatrollievliegtuie wat die mid-Atlantiese-Oseaan-gaping uitgewis het (Cote 2003:10). Radartoegeruste TDO-seepatrollievliegtuie het eindelik Duitse U-bote (gekenmerk deur die afwesigheid van verbeterde sluipvermoë, klankonderdrukking (“quieting”) en reikafstand) gedwing om te duik, wat weer die mobiliteit, kommunikasievermoëns en slaankrag van die duikbote onderdruk het (Sasgen 2009:41; Cote 2003:10). Met inbegrip van die gebruik van radartoegeruste TDO-seepatrollievliegtuie, het die toename in die aantal beskikbare oppervlakskepe met die doel om konvooie te beskerm die Duitse U-bootbedreiging ’n aansienlike knou toegedien (Friedman 2019:18).

Ondanks die sukses van TDO-seepatrollievliegtuie om die dekkingsgaping te oorbrug, was laasgenoemde steeds ’n blywende bekommernis vir die Geallieerdes, hoofsaaklik omdat langafstandbomwerpers die hoeksteen van die strategiese lugveldtog van die Amerikaanse en Britse Lugmag gevorm het en dié vliegtuie dus elders benodig is (Cote 2003:11). Eers vroeg in 1943, met die aanwending van ’n toereikende hoeveelheid eskaders van die Amerikaanse Lugmag se B-24 Liberators-seepatrollievliegtuie, kon die probleem van die mid-Atlantiese-Oseaan-gaping werklik oorbrug word (Clark e.a. 2020:22).

Hoewel Geallieerde sukses betreffende die dekkingsgaping uiters belangrik in die stryd teen die Duitse U-bootbedreiging was, het verskeie ander TDO-tegnologieë eweneens ’n deurslaggewende rol gespeel. Aangesien die dieselaangedrewe duikbote van die Tweede Wêreldoorlog militêre aksies hoofsaaklik bo die water uitgevoer het (gegewe die afhanklikheid van kragopwekkers van suurstof),2 was TDO-opsporingstegnologieë veral op die elektromagnetiese spektrum (o.a. radar, duikbootradio- en radarvoortplanting, en ontsyfering van duikbootradiokommunikasie) gerig (Clark e.a. 2020:20). Kenmerkend van die ontwikkeling van militêre tegnologie deur die geskiedenis, met inbegrip van die ontwikkeling van TDO-tegnologieë gedurende die Tweede Wêreldoorlog, is die verskynsel van “maatreël” en “teëmaatreël”: “vir elke maatreël wat ontwikkel word, is daar ’n teëmaatreël, en vir elke teëmaatreël, ’n teë-teë-maatreël, ad infinitum” (Cohen 2019:140). Híér kan op twee voorbeelde gewys word. Een, die gebruik van radar-toegeruste TDO-skepe en -seepatrollievliegtuie is betreklik vinnig teëgewerk deur die ontwikkeling van duikbootradarwaarskuwingsontvangtoestelle (“submarine radar warning receivers”) met toenemend hoër frekwensies (vanaf L-, toe S- en tot X-band) (Clark e.a. 2020:20). Twee, die ontsyfering van konvooi- en duikbootbevele is deur nuwe enkripsietegnieke teëgewerk, wat weer nuwe ontsyferingstegnieke meegebring het (Clark e.a. 2020:20).

Laasgenoemde, te wete prosesse van syfering en ontsyfering, het tesame met die ontwikkeling van hoëfrekwensie-rigtingsbepaling (“High-Frequency Direction-Finding” (HF/DF), oftewel HF/RB) ’n beduidende invloed op die Duitse U-bootbedreiging uitgeoefen. Hoe beduidend dié invloed was, blyk ’n twispunt te wees (vgl. bv. Deutsch 1978:2). Die sukses van Duitse wolwetroptaktiek het egter op die sentrale koördinasie van U-bootoperasies vanaf ’n landgebaseerde bevelspos berus, wat op sigself op die belangrikheid van tweerigtingradiokommunikasie tussen U-bote en die hoofkwartier gedui het (Cote 2003:11). Duitse tweerigtingradiokommunikasie (geënkripteer deur die syfermasjien, Enigma) kon egter deur die gebruik van HF/RB opgespoor word, waarna die liggingsbepaling van U-bote vasgestel kon word en die inhoud van die kommunikasie deur die Geallieerdes se intelligensieprojek Ultra ontsyfer word (Cote 2003:11). Dié deurbraak het die Geallieerdes in staat gestel om konvooie wat geteiken word, vroegtydig te waarsku en om beter aanwysings aan TDO-seepatrollievliegtuie te verskaf (Clark e.a. 2020:20).

Gedurende die stryd om TDO, was TDO-sensors (o.a. radar, magnetieseafwykingsdetektors, sonoboeie, en HF/RB-antennas) oorwegend van groter nut as TDO-wapens, hoofsaaklik omdat duikbote onmiddellik gepoog het om hulself uit die geveg te verwyder nadat hulle opgespoor is (Clark e.a. 2020:20; Cote 2003:11–2). Nogtans het verskeie ontwikkelinge op die gebied van TDO-wapens verskyn, waarvan die ontwikkeling van die klankaanpeiltorpedo (“acoustic homing torpedo”) soos die Mk. 24-torpedomyn en meer gesofistikeerde dieptebomme (o.a. die Amerikaanse Vloot se sogenaamde K-geskut-dieptebom) noemenswaardig is (Globe Composite 2021). Hoewel die ontwikkeling van TDO-tegnologieë en -strategieë gedurende die Tweede Wêreldoorlog die kern van die Geallieerdes se TDO-sukses was, het dié (kortstondige) oorwinning ’n onomstootlike feit verberg: ontwikkelinge in duikbootontwerp en -tegnologie aan die einde van die oorlog het die slinger toenemend in die guns van duikbote eerder as TDO-magte geswaai, veral teen die agtergrond van die Duitse ontwikkeling van die Tipe XXI-duikbote (Cote 2003:12).

 

3. Die tydperk van die akoestikus: TDO gedurende die Koue Oorlog

Kort na die einde van die Tweede Wêreldoorlog het die Amerikaanse Hoof van Vlootoperasies admiraal Chester W. Nimitz TDO (tesame met die bedreiging van kernoorlog) tot die dringendste prioriteite van die Amerikaanse Vloot verhef (Holwitt 2019). Vanwaar, kan tereg gevra word, die koorsagtige klemverskuiwing van die Amerikaanse Vloot na TDO, veral gegewe die feit dat dié verskuiwing midde-in ’n tydperk van vrede plaasgevind het? Kort voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog het die Duitse Vloot ’n nuwe duikboot – die Tipe XXI – ontplooi, wat ten doel gehad het om die Geallieerdes se TDO-taktiek teen Duitse wolwetroptaktiek tot niet te maak (Cote 2003:13). Hoewel die Tipe XXI te laat op die toneel verskyn het om die uitkoms van die ondersese stryd in die Atlantiese Oseaan beduidend te beïnvloed, was dié duikbootklas een van ongeëwenaarde werkverrigting, wat trouens eers sowat ’n dekade later met die koms van kernduikbote oortref sou word (Fitzgerald en Pittenger 2019). Die Tipe XXI het oor ’n vaartbelynde romp, ’n sterker batterykapasiteit en ’n snorkel (wat die dieselenjin in staat gestel het om lug te skep tydens periskoopdiepte) beskik en kon ’n onderwaterspoed van 15 knope vir twee ure volhou (Cote 2003:13). Daarbenewens het die verhoogde onderwaterspoed van dié duikbote daartoe bygedra dat hulle enige torpedojaer vinnig kon ontduik, wat die moontlikheid van sonarkontak uitgeskakel het (Christley 2007:5). Na die Tweede Wêreldoorlog het die Tipe XXI in die hande van die Amerikaners, Britte en Sowjets geval. Die Amerikaners het vervolgens gevrees dat die Sowjetunie ’n groot getal seevarende Tipe XXI-duikbote sou vervaardig, wat ’n bykans onoorkombare uitdaging vir dié land se TDO-magte sou bied (Fitzgerald en Pittenger 2019).

Ten einde die bedreiging van Sowjetvervaardigde Tipe XXI-duikbote te oorkom, het die Amerikaanse Vloot eindelik twee benaderings gevolg, die een evolusionêr en die tweede meer revolusionêr. Die evolusionêre benadering, in ’n poging om antwoorde op die bedreiging van die vinnige snorkeltoegeruste duikboot te verskaf, het die ontwikkeling van beter radar vir luggesteunde TDO, beter aktiewe sonars vir oppervlakskepe en beter wapens vir beide daargestel (Cote 2003:14). Teen 1950 het die APS 20-radar grotendeels daarin geslaag om die opsporingsafstand wat met die koms van die snorkeltoegeruste duikboot verloor is, te herwin; op sy beurt, het die QHB-skanderingsonar oppervlakskepe toegerus om langer kontak met duikbote onder die water te behou (Cote 2003:15). Nieteenstaande dié ontwikkelinge, was kenners dit eens dat die “radar-teen-duikbootstryd ’n ongelyke een is, met die duikboot eindelik die wenner” (Cote 2003:15). Laasgenoemde uitkoms was hoofsaaklik weens twee faktore: een, die feit dat die APS 20-radar voortdurend verbeter moes word ten einde tred met moontlike ontwikkelinge in Sowjet- snorkeltoegeruste duikbote te hou; en twee, enige poging deur die Sowjetunie om geometriese kamoeflering te ontgin, sou die opsporingsafstand van die APS 20-radar ingrypend verminder (Cote 2003:16).

Die meer revolusionêre benadering was hoofsaaklik gerig op die ontwikkeling van ’n nuwe sensor en ’n nuwe TDO-platform. Amerikaanse sensorontwikkeling het uiteraard voortgebou op die Duitse sonarsisteme wat tydens die Tweede Wêreldoorlog deur die Geallieerdes gebuit is en daarna deur verskeie navorsingsinstellings verder ontwikkel is (Holwitt 2019). Die uiteinde hiervan was die ontwikkeling van die passief-akoestiese rignet (“passive acoustic array”). Die gebruik van passief-akoestiese TDO-metodes spruit voort uit verskeie ontdekkings oor klankvoortplanting in die see; onder andere, die ontdekking van ’n diep klankkanaal wat laefrekwensieklank vasvang en rig en eindelik langafstandklankvoortplanting moontlik maak (Cote 2003:16). Dié ontdekking het die ontwikkeling van akoestiese rignette met toenemende krag en verwerkingspoed moontlik gemaak, en die belangrikste uitkoms hiervan was die ontwikkeling van die klankwaarnemingsisteem (“Sound Surveillance System” (SOSUS), oftewel KWS) (Holwitt 2019). KWS was, en is steeds vandag, ’n ongeëwenaarde waarnemingsisteem en bestaan uit ’n netwerk van passief-akoestiese rignette wat deur die Amerikaanse Vloot op die seebodem geplaas is om vir vyandige duikbote in die diep klankkanaal te luister (Clark e.a. 2020:25).

Gelyklopend hiermee was die ontwikkeling van ’n nuwe TDO-platform, die TDO-duikboot (die sogenaamde “jagduikboot” of “hunter-killers” (SSK)), wat eweneens van passiewe, laefrekwensie- akoestiese rignette gebruik gemaak het (Cote 2003:17). In 1952 is die eerste TDO-ontwerpte jagduikbote – die Amerikaanse Vloot se SSK’s 1–3 – seevaardig verklaar, en die uitstaande TDO-kenmerk van dié duikbote was die gebruik van ’n groot laefrekwensie-boegrignet (“bow array”), die BQR-4 (Cote 2003:17). Die aanwending van die BQR-4 het die SSK’s toegerus om duikbote, veral dié wat op periskoopdiepte bewegings uitvoer, sowat 30 seemyl (55,56 kilometer) ver op te spoor (Cote 2003:17).

Sowjetvervaardigde duikbote geskoei op die Tipe XII het eers werklik gedurende 1949 in volle swang gekom met die ontwikkeling van die Whiskey- en Zulu-klas (en betreffende laasgenoemde, in uiters klein getalle), met die gevolg dat die naoorlogse Amerikaanse vrees vir ’n groot Sowjetduikbootvloot (geskoei op die Tipe XII) ongegrond was. Met die eerste kernontploffing van die Sowjetunie in 1949 het die TDO-landskap egter dramaties verander. Daar is wyd aanvaar – én gevrees – dat die duikboot die vernaamste kernwapenplatform sou word (Cote 2003:19). Die eerste kernrevolusie, te wete die gebruik van die duikboot as kernwapenplatform, moet naas die tweede een beskou word, dit is, die ontwikkeling van kernaangedrewe duikbote. Die moontlikheid van kernaangedrewe Sowjetduikbote (gewapen met kernwapens) het TDO tot ’n missie van uiterste nasionale belang (meer as ooit vantevore) in die Amerikaanse Vloot verhef (Cote 2003:19). Nieteenstaande wydverspreide Amerikaanse kommer gedurende die vroeë 1950’s, het die ontwikkeling van Sowjetkernduikbote vir nog sowat ’n dekade getalm.

Intussen het die Amerikaanse Vloot onverpoosd voortgegaan om ’n kernaangedrewe duikboot te vervaardig, een wat byna heeltemal onafhanklik van die oppervlakte kon diens doen en wat die see kon patrolleer sonder om na die oppervlakte te kom (Cote 2003:21). Die uiteinde hiervan was die USS Nautilus gedurende 1954, wat van meet af tydens krygsoefeninge ’n uitdaging vir Amerikaanse TDO-spanne gebied het (Cote 2003:21). Gegewe die hoë spoed van die Nautilus, met inbegrip van sy onafhanklikheid van die snorkel, kon hy moeiteloos die aktiewe sonarsisteme van TDO-oppervlakskepe ontduik. Terselfdertyd het sy spoed en driedimensionele stuurbaarheid dit haas onmoontlik vir klankaanpeiltorpedo’s gemaak om die Nautilus te kwes (Cote 2003:21). Kort na die Nautilus ontplooi is, het elke ander duikboot in die wêreld verouderd geraak (Sasgen 2009:43). Ondanks sy indrukwekkende werkverrigting, was kernaangedrewe duikbote soos die Nautilus uiters luid (Sasgen 2009:43). Anders as dieselaangedrewe duikbote, wat met tussenposes luid is weens die noodsaaklikheid om die snorkel te gebruik, was die vroeë kernaangedrewe duikbote voortdurend luid (veral betreffende die laefrekwensiedeel van die klankspektrum), hoofsaaklik weens roterende masjinerie verbonde aan die kernreaktor (Clark e.a. 2020:38; Cote 2003:21). Dat kernaangedrewe duikbote voortdurend luid was, het twee ontwikkelinge meegebring: enersyds het duikbootontwerpers hulle toenemend op die ontwerp van stil duikbote toegespits; andersyds het die belangrikheid van ’n TDO-strategie en operasionele konsepte dramaties toegeneem (Holwitt 2019; Clark e.a. 2020:39).

Die vereniging van kernaangedrewe duikbote met duikbootgelanseerde ballistiese missiele (DBM), kortom die ontwikkeling van BMDK’s, het die TDO-prentjie selfs meer ingewikkeld gemaak – vir die Sowjetunie meer as vir die Verenigde State van Amerika (VSA). Die ontplooiing gedurende 1960 van BMDK’s deur sowel die VSA (die George Washington, die eerste van 41 Polaris-klas-BMDK’s) as die Sowjetunie (die Hotel-klas) het die idee in beide state sterk tuisgebring dat elk oor die vermoë beskik het om onberekenbare skade aan die ander te berokken indien ’n verrassingsaanval sou plaasvind (Cote 2019:31–2). Gegewe die Amerikaanse voorsprong in passief-akoestiese TDO-metodes (veral met verwysing na KWS) asook duikbootklankonderdrukking (“submarine quieting”), was Sowjet-BMDK’s van meet af kwesbaar vir Amerikaanse waarneming. Deur gebruik te maak van smalband-, laefrekwensie-, passief-akoestiese rignette (m.a.w. KWS), kon die Amerikaanse Vloot voortdurend op die spoor van die George Washington wees tydens sy vaart oor die Atlantiese Oseaan op weg na sy eerste afskrikkingspatrollie in die Noorse See (Taddiken en Krock 2021). Die laefrekwensietonale kenmerkend van BMDK’s, die uitwerking van roterende masjinerie, het kragtig oor die breedte van die Noord-Atlantiese Oseean voortgeplant (Cote 2019:32).

Teen 1964 het KWS of soortgelyke sisteme passief-akoestiese waarneming in die Noord-Atlantiese See, die Noorse See en groot dele van die Stille Oseaan teen enige duikboot wat sodanige laefrekwensietonale voortgebring het, verskaf (Cote 2019:32). Die gebruik van KWS het ’n versperringstrategie moontlik gemaak, waarvolgens versperrings tussen Sowjet-tuishawes en patrollie-areas op die oop see geplaas is (Cote 2003:41). In diep waters, en waar die maritieme geografie dit toegelaat het, kon KWS-rignette op strategiese liggings (sogenaamde “choke points”, oftewel knooppunte) geplaas word, wat vroegtydige waarskuwing van duikbootbewegings aan die VSA verskaf het (Cote 2003:41). Soos reeds vermeld, het KWS eindelik meegebring dat die Washington-klas-BMDK’s die laaste Amerikaanse BMDK’s was wat sonder duikbootklankonderdrukking ontwerp is (Holwitt 2019). Teen dié agtergrond het ’n uiters positiewe wisselwerking of kompetisie tussen die ontwerpers van passief-akoestiese sonar en duikbootontwerpers ontstaan, wat steeds van kritieke belang vir (Amerikaanse) TDO is: namate sonarontwerpers toenemend gevorderde passief-akoestiese rignette ontwikkel het (met die doel om die Amerikaanse Vloot toe te rus om vyandige duikbote op te spoor), het dié ontwikkelinge weer tot vernuwende duikbootontwerpe gelei ten einde die tonale van Amerikaanse duikbote te onderdruk (Christley 2007:32; Cote 2019:32). Die gebruik van KWS, tesame met die ontwikkeling van rignette wat deur oppervlakskepe en duikbote gesleep word, het die Amerikaanse Vloot bemagtig om Sowjetduikbote vroegtydig op te spoor, waarna P-3C-seepatrollievliegtuie gebruik sou maak van sonoboeie (wat op hul beurt toenemend van passiewe akoestiek gebruik gemaak het) om op die spoor van die duikboot te bly (Taddiken en Krock 2021; Cote 2003:49). Hierna sou daar van Amerikaanse AK’s gebruik gemaak word om dié duikboot verder waar te neem (Clark e.a. 2020:39; Cote 2003:31). Dié benadering het die Amerikaanse Vloot bemagtig om belangrike inligting oor Sowjetduikbote en -operasies in te win en op grond hiervan, Amerikaanse TDO-magte vroegtydig in posisie te stel voor die aanvang van ’n konflik (Clark e.a. 2020:39).

Die Amerikaanse kompetisie tussen duikbootontwerpers enersyds en ontwerpers van TDO-sensors andersyds het vir ’n groot gedeelte van die Koue Oorlog sonder die medewete van die Sowjetunie plaasgevind (Cote 2019:32). Trouens, eers teen die laat 1970’s het die Sowjetunie die volle omvang van die kwesbaarheid van hul duikbote vir passiewe akoestiek besef en met dít in gedagte, duikbootklankonderdrukking vooropgestel (Clark e.a. 2020:39). Sowjet-duikbootklankonderdrukkingstappe het egter die dekking van KWS en die opsporingsafstand van Amerikaanse sonoboeie verminder en vervolgens, teen die laat-1980’s, het Amerikaanse AK’s en P-3C’s dit ietwat moeiliker gevind om ’n groeiende getal stil Sowjetduikbote op te spoor (Clark e.a. 2020). In reaksie hierop het die Amerikaanse Vloot toenemend van ’n offensiewe TDO-strategie gebruik gemaak, wat ten doel gehad het om Sowjet-BMDK’s in hul patrollie-areas in die Noordelike Yssee, die Barentsz-See en die Okhotsk-See (almal Sowjetbastions) te bedreig (Holwitt 2019). Die onderliggende aanname van dié strategie was dat die Sowjet-leierskap hul beste AK’s sou stuur ten einde hul BMDK-mag te beskerm, wat die Amerikaanse Vloot met ’n kleiner aantal Sowjet-AK’s op die oop see sou laat wat waargeneem en indien nodig, vernietig moes word (Clark e.a. 2020:39). Ondanks die Sowjetunie se koorsagtige strewe na duikbootklankonderdrukking, is dit noemenswaardig dat die eerste Sowjetkernduikboot wat van meet af met duikbootklankonderdrukking ontwerp is, te wete die Akula-klas-AK, eers teen 1986 ontplooi is (Cote 2019:32). Teen dié tyd het die Amerikaanse Vloot reeds ’n nuwe rignet en opvolger vir KWS – die vastedistribusiesisteem (“fixed distribution system”) – getoets, en hul eerste SURTASS-skip (“surveillance towed array sensor system”) in diens gestel (Taddiken en Krock 2021; Friedman 2019:28). Op stuk van sake het die Amerikaanse passief-akoestiese TDO-strategie Sowjetkernduikbote vir ’n groot deel van die Koue Oorlog kwesbaar vir Amerikaanse waarneming (hoewel nie vernietiging nie) gelaat (Cote 2019:32).

 

4. TDO in ’n tydperk van tegnologiese verandering: die hede én die toekoms

In die tydperk ná die Koue Oorlog het die klem op die noodsaaklikheid van TDO toenemend gekwyn, veral in Amerikaanse geledere (Taddiken en Krock 2021; Toti 2014). Verskeie navorsingsprogramme en navorsingsinstellings is eindelik deur die Amerikaanse Vloot tot niet gemaak en ondersese akoestiese waarneming en belegging in mobiele en ontplooibare (“deployable”) akoestiese stelsels het’n ruk lank gekwyn (Fitzgerald en Pittenger 2019). Daar is egter vandag hernude klem op die noodsaaklikheid van TDO, nie net in Amerikaanse kringe nie, maar ook in dié van die Russe en die Chinese (vgl. bv. Clark e.a. 2020; Friedman 2019; Holwitt 2019; Fitzgerald en Pittenger 2019; Goldstein 2019). Daar is hoofsaaklik twee redes hiervoor: een, die vrees vir ’n oorlog tussen die VSA en Rusland, die VSA en China, of die VSA teen Rusland én China, waarin duikbootoorlogvoering uiters belangrik sal wees, kring uit (Layne 2020; Cote 2019); twee, die groeiende besef dat ’n reeks nuwe tegnologieë moontlik die slinger in die guns van TDO-magte eerder as duikbote (sal) swaai.

Die pas van tegnologiese innovasie het gedurende die laaste twee dekades ingrypend versnel (Vavasseur en Scott 2020:25). Hoewel die TDO-benaderings van die VSA, China en Rusland steeds vandag oorwegend op dié van die Koue Oorlog geskoei is, word daar aangevoer dat nuwe tegnologieë ongekende waarnemingsvermoëns aan state sal verskaf (Clark e.a. 2020:41; Lieber en Press 2018:2). Vervolgens sal die oseane toenemend deursigtig word en sal die stil duikboot, die onkwesbaarste been van kernstate se tweedeslaanaanvalsmagte, bedreig word. Laasgenoemde hou beduidende gevolge vir die uitvoerbaarheid en sukses van ’n kernafskrikkingstrategie in. Diepgaande ontwikkelinge in afstandswaarneming bied waarskynlik die grootste uitdaging vir duikbote om vyandige waarneming te ontduik. Diegene wat aanvoer dat ontwikkelinge in afstandswaarneming die oseane in die toekoms toenemend deursigtig sal maak, wys gewoonlik op vyf verwante tendense.

Een, sensorplatforms raak toenemend uiteenlopend (Lieber en Press 2018:4). Sensorplatforms is nie meer beperk tot die tradisionele fokus van inligting, waarneming en verkenning (“intelligence, surveillance, and reconnaissance” (ISR), oftewel IWV) kenmerkend van die Koue Oorlog nie, te wete satelliete, duikbote en bemande vliegtuie. Nuwe platforms, onder andere OLV’s, OOV’s en OOS’e, almal toegerus met toenemend gesofistikeerde sensors, bied nuwe geleenthede vir IWV. Benewens dié ontwikkelinge het ’n nuwe virtuele sensorplatform gedurende die laaste twee dekades na vore getree, te wete die kuberruim (Lieber en Press 2018:4). Twee, die spektrum van seine wat deur sensors ingesamel word, en die tegnieke wat hiervoor aangewend word, het verbreed (Lieber en Press 2018:4). Koue Oorlog-intelligensie was oorwegend van fotoverkenning (“photoreconnaissance”), passiewe akoestiek en die onderskepping van die vyand se kommunikasie afhanklik (Lieber en Press 2018:4). Dié IWV-tegnieke is egter steeds uiters tersaaklik, en het op sigself diepgaande ontwikkelinge ondergaan. Enkele voorbeelde sal voldoende wees om op dié ontwikkelinge te dui. Tradisionele passief-akoestiese rignette en sonoboeie het gewoonlik op die mid-frekwensies (5–15kHz) van die klankspektrum gefokus. Daar is vandag hernude belangstelling in die moontlikheid van ultralae sonarsisteme, met frekwensies in die reeks van 0,01–0,1kHz. Indien dié sisteme verwerklik word, sal dit beteken dat duikbote vanaf groter afstande opgespoor kan word (Hambling 2020:10). Die vastedistribusiesisteem (die voorganger van KWS) is deur die betroubare akoestiese weg (“Reliable Acoustic Path” (RAP), oftewel BAW) vervang. Soortgelyk aan KWS, bestaan BAW uit ’n netwerk van passief-akoestiese rignette wat op die seebodem geplaas is; anders as KWS, is BAW-rignette opwaarts gerig (wat meebring dat ander horisontale seine uitgeskakel word) en seine kan etlike kilometer diep en 20 seemyl (37,04 kilometer) ver op die oppervlak ontvang word (Friedman 2020:26; Cote 2019:33). Benewens dié ontwikkelinge in tradisionele IWV-tegnieke, is moderne sensors toegerus om data in te samel wat die hele elektromagnetiese spektrum kruis en dié data kan met behulp van toenemend vindingryke ontledingstegnieke ontgin word (Lieber en Press 2018:4).

Drie, afstandswaarnemingsplatforms word toenemend deur ononderbroke waarnemingsvermoëns gekenmerk (Lieber en Press 2018:4). Die klem op onbeman-gefokusde TDO-konsepte en onbemande sensors en platforms is hier tersaaklik. Gedurende die vroeë jare van die Koue Oorlog was intelligensie aangewese op sensors wat knakskote (“snapshots”) eerder as ’n ononderbroke vloei van data ingesamel het (Lieber en Press 2018:4). Só het verkenningsvliegtuie byvoorbeeld vinnig oor ’n teiken gevlieg en satelliete oor ’n teiken beweeg en dan weer oor die horison verdwyn (Lieber en Press 2018:4). Mettertyd het dié sensors plek gemaak vir ander meer vaste sensors, wat data meer geredelik opgesuig het, byvoorbeeld passief-akoestiese rignette en geostasionêre satelliete (Lieber en Press 2018:4).

Die neiging in die rigting van ononderbroke waarnemingsvermoëns duur vandag voort. Daar word vandag aangevoer dat OLV’s, OOV’s en OOS’e, toegerus met uiters gesofistikeerde sensors, die ononderbroke waarneming van strategiese teikens en platforms moontlik maak (vgl. Clark e.a. 2020). Rusland se Poseidon, ’n kernbewapende OOV toegerus met ’n waarnemingsvermoë, is een voorbeeld hiervan (Axe 2021).’n Selfs meer tersaaklike voorbeeld is Orca, ’n ekstra-groot OOV wat deur Boeing vir die Amerikaanse Vloot vervaardig word. Orca is op Boeing se uiters indrukwekkende OOV, die Echo Voyager, geskoei, maar na verwagting sal daar beduidende verskille tussen die twee wees. Die Echo Voyager het ’n sendbereik van 6 500 seemyl (12 038 kilometer), kan 3 353 meter diep duik en kan vir meer as 70 dae onder die water bewegings uitvoer (Osborn 2019). Hoewel beperkte inligting oor Orca bekend is, word daar wyd aanvaar dat dit met mynteëmaatreëls, TDO, elektroniese oorlogvoerings- en aanvalsvermoëns toegerus sal word (Mizokami 2019). Benewens dié maatreëls sal Orca oor gesofistikeerde sonarladings (“sonar payloads”) beskik en in staat wees om data byna oombliklik aan oppervlakskepe te versend (Mizokami 2019). ’n Laaste voorbeeld is SeaGuardian, ’n OLV wat as ’n seepatrollievliegtuig ontwerp word. Dié OLV het ’n vliegbereik van 5 500 seemyl (10 186 kilometer), ’n reikafstand van 35 ure en kan ’n hoogte van ongeveer 12 192 kilometer bereik (Scott 2020:6). Met OLV’s en OOV’s wat die oseane waarneem en duikbootposisies aan oppervlakskepe kommunikeer, word die voorheen onbegonne taak om duikbote op te spoor aansienlik makliker. Voorts word laasgenoemde verder vergemaklik deurdat die koste verbonde aan OLV’s en OOV’s aansienlik goedkoper as bemande vaartuie is, wat beteken dat meer TDO-platforms beskikbaar gestel kan word (Clark e.a. 2020:48).

Vier, deel van die kwalitatiewe verbeteringe in afstandswaarneming is die toename in sensorskerpte (“sensor resolution”) (Lieber en Press 2018:4). Verbeterde sensors en dataverwerkingstegnieke baan die weg vir meer akkurate afmetings en om dowwe seine van byklanke te onderskei (Lieber en Press 2018:4). Dit is insiggewend om te vermeld dat die eerste Amerikaanse verkenningsatelliet voorwerpe so klein as 7,62 meter kon waarneem; kommersiële satelliete (wat nog te sê militêre satelliete) kan vandag voorwerpe met ’n 0,3 meter-resolusie waarneem (Lieber en Press 2018:4). Sodanige verbeteringe in sensorskerpte bring ook nuwe moontlikhede vir infrarooisensors, gevorderde radars, interferometers en spektrograwe. Dié verbeteringe is egter almal aangewese op die vyfde tendens in afstandswaarneming, te wete verbeterde (d.i. oombliklike) dataversending (Lieber en Press 2018:4).

 

5. Hoe kwesbaar is duikbote nou eintlik? Implikasies vir kernafskrikking

Die stil duikboot word tradisioneel as die onkwesbaarste been van die kerntriade beskou. Vandag word daar egter aangevoer dat diepgaande ontwikkelinge in IWV die slinger in die guns van TDO-magte eerder as duikbote (sal) swaai (Lieber en Press 2018). In hierdie afdeling sal twee onderling verwante kwessies onder die loep kom: eerstens, die vraag na die kwesbaarheid van duikbote, spesifiek BMDK’s as die hoeksteen van die tweedeslaanaanvalsmagte van kernstate; tweedens, die vraag na die uitwerking van die kwesbaarheid van BMDK’s vir kernafskrikking. As ’n vertrekpunt is dit tersaaklik om te noem dat kenners dit eens is dat huidige benaderings tot TDO geensins doeltreffend sal wees om alle vyandige BMDK’s op te spoor nie (Clark e.a. 2020:44). Met dít in gedagte, is dit noemenswaardig dat die Amerikaanse Vloot se Ohio-klas-BMDK “nog nooit deur enige vyandige duikboot opgespoor is nie” (Mizokami 2020). Die onkwesbaarheid van BMDK’s is egter nie net beperk tot die Amerikaanse Vloot nie. Gedurende Augustus 2020 het ’n Russiese duikboot in internasionale water aan die kus van Alaska opgeduik en die Amerikaanse Vloot se Noordelike Bevelspos heeltemal verras. Klaarblyklik is dit steeds uiters moeilik om ’n duikboot op te spoor, selfs in ’n tydperk van indrukwekkende tegnologiese ontwikkeling.

Om ’n hele BMDK-mag op te spoor, te agtervolg en te vernietig is beswaarlik ’n maklike taak. Toti (2014) verklaar onomwonde dat die taak om ’n vyandige BMDK op te spoor “byna onmoontlik” is. Voorts moet enige passief-akoestiese TDO-strategie wat ten doel het om byvoorbeeld die hele Amerikaanse BMDK-mag op te spoor, te agtervolg en te vernietig, één belangrike vraag oorweeg, te wete, op watter afstand kan ’n Amerikaanse BMDK opgespoor word? Inligting oor die akoestiese sein wat deur die Ohio-klas voortgebring word, wat dui op die opsporingsafstand van hierdie duikbootklas, is steeds geklassifiseerde inligting (Snyder e.a. 2019:190). Gedurende die 1980’s het waarnemers gemeen dat die akoestiese sein van die Ohio-klas tussen 90–110 desibels kan wees, wat meebring dat ’n vyandige duikboot so naby as 1–2 kilometer aan die Amerikaanse duikboot moet wees ten einde opsporing moontlik te maak (Snyder e.a. 2019:190). Daar word vandag algemeen aanvaar dat opsporingsafstande veel korter sal wees en selfs meer in die toekoms sal verkort. Selfs al verkort die opsporingsafstand verder in die toekoms, is dit belangrik om te besef dat enige verdere verbeteringe geen militêre nut inhou nie. Die akoestiese sein wat deur ’n BMDK voortgebring word, moet eindelik prakties ver genoeg wees vir akoestiese opsporing om militêr betekenisvol te wees (Snyder e.a. 2019.191). Die Colombia-klas-BMD (die opvolger van die Ohio-klas) se stiller elektriese aandrywing en byna 0,3048 meter groter romp sal ongetwyfeld opsporingsafstande verder verkort (O’Rourke 2020; Snyder e.a. 2019:191).

Voorts word daar aangevoer dat diepgaande verbeteringe in die verwerkingsvermoëns van rekenaars duikbote bemagtig om vinnig ’n oorvloed akoestiese data te deursoek, waarna ’n vyandige duikboot gouer opgespoor kan word (Snyder e.a. 2019:191). Alvorens data deursoek kan word, moet ’n duikboot egter eers dié data hê, ’n uiters netelige probleem wanneer ’n BMDK voortdurend aan die beweeg is (Snyder e.a. 2019:191). Dié probleem sal selfs meer indringend word waar die opsporingsafstand van ’n BMDK verkort. Bowendien kan ’n (Amerikaanse) BMD teen ’n onderwaterspoed vaar wat die duikboot in staat sal stel om buite sy maksimum opsporingsafstand te beweeg gedurende die vereiste tydraamwerk om data in te samel, wat meebring dat die toename in verwerkingspoed nutteloos is (Snyder e.a. 2019:191). Voorts sal die Columbia-klas, met ’n X-vormige romp, oor selfs nog vinniger onderwaterspoed in dieper water beskik, wat weer eens dui op die uitdagings om akoestiese data vas te vang onderwyl ’n duikboot binne sy maksimum opsporingsafstand is (Military-Today 2020).

Om suksesvol op die spoor van ’n vyandige duikboot te bly, vereis voorts dat ’n BMDK-sein op verskeie hidrofone inwerk, ’n uitdaging wat meebring dat enige verdere verbeteringe in sensors grootliks onbelangrik sal wees (Snyder e.a. 2019:191). ’n Enkele hidrofoon kan nie ’n BMDK-sein van byklanke onderskei nie. ’n Duikboot wat poog om op die spoor van ’n vyandige BMD te bly, sal gevolglik van verskeie hidrofone gebruik moet maak om, eerstens, die vyandige BMD op te spoor, tweedens, die rigting waarin dié duikboot vaar vas te stel (ten einde op die spoor van die duikboot te bly) en laastens, ’n aanval te loods om dit te vernietig (Snyder e.a. 2019:191). Hoewel ’n toename in hidrofone die moontlikheid van die opsporing van ’n BMDK verhoog, is dit tersaaklik om te noem dat die korrelasie tussen ’n BMDK-sein en verskeie hidrofone vir slegs ’n paar sekondes volgehou kan word, wat ’n teenwig skep vir enige verbeteringe in die verwerkingsvermoëns van rekenaars (Snyder e.a. 2019:191).

Enige poging om aktief op die spoor van ’n BMDK te bly, sal in elk geval nie onopgemerk bly nie. Wanneer sodanige pogings aangewend word, sal ’n BMDK ’n aktiewe sein (dat dit deur ’n vyandige duikboot agtervolg word) opmerk. Trouens, lank voordat ’n vyandige duikboot op die spoor van ’n BMDK kom, sal laasgenoemde ’n aktiewe sein opmerk (Snyder e.a. 2019:191). In elk geval, wanneer ’n BMDK ’n aktiewe sein opmerk, sal dit spoedig optree – deur die gebruik van óf gereëlde ploftoestelle (“timed explosive devices”) óf tydige aanlokkingsmiddele (“decoys”) – om vyandige duikbote te vernietig (Friedman 2019:33). Belangriker, selfs al is dit moontlik om ’n duikboot op te spoor én op sy spoor te bly, is die vraag of ’n BMDK wel vernietig kan word, ’n geheel en al andersoortige een. Om ’n BMDK te vernietig, meen Friedman (2020:79), is geensins ’n eenvoudige onderneming nie. Baie hang af van hoe presies die BMDK opgespoor kan word, waarna die vernietiging van die duikboot ’n verdere poging om die BMDK se posisie vas te stel ten einde ’n aanval te loods, verg (Friedman 2019:33). Baie hang ook af van die praktiese, eerder as die teoretiese, doeltreffendheid van TDO-wapens (Friedman 2019:33). Wanneer ’n BMDK wel aangeval word, kan teëmaatreëls aangewend word ten einde die duikboot ’n kans op oorlewing te bied. Huidige navorsing oor die nut van teen-torpedowapens om oppervlakskepe te beskerm, kan waarskynlik lei tot die ontwikkeling van doeltreffende duikbootselfverdedigingswapens (Friedman 2019:33). Met dié wapens in gedagte, is dit insiggewend om te noem dat die Amerikaanse Vloot poog om ’n veelvlakkige verdediging (“layered defence”) van teen-torpedo-aanlok-en-fopmiddels (“anti-torpedo decoys”) te ontwikkel, wat duikbote teen TDO-wapens sal beskerm (Peck 2020). Uiteraard sal dié veelvlakkige verdediging soortgelyk wees aan die elektroniese oorlogsisteme wat militêre vliegtuie teen lugafweerwapens beskerm (Peck 2020). Hoewel selfverdediging ongetwyfeld ’n diepgaande probleem in die ondersese omgewing is, is dit egter nie ’n onoorkomelike een nie (Friedman 2019:33).

Vervolgens is dit uiters moeilik om ’n BMDK (wat nog te sê van ’n hele BMDK-mag) op te spoor, te agtervolg en te vernietig. Hierteenoor kan daar gevra word: sal die diepgaande ontwikkelinge in afstandswaarneming nie die opsporing en agtervolging van BMDK’s vergemaklik nie? Die bondige, dog kragtige, antwoord is: stellig nie. Etlike redes voortspruitend uit die bespreking van TDO in hierdie ondersoek kan aangevoer word om dié antwoord te staaf. Allereers dui die geskiedenis van TDO (soos uiteengesit in hierdie ondersoek) sterk daarop dat ontwikkelinge in militêre tegnologie nooit slegs in een rigting beweeg nie. Trouens, soos Fitzgerald en Pittenger (2020) kundig uitwys, “die geskiedenis van TDO is een van verrassings”, met maatreëls wat verskeie teëmaatreëls, en teëmaatreels wat teë-teëmaatreëls meebring, ad infinitum (Cohen 2019:140). Gevolglik, indien sekere tegnologieë die slinger in die guns van TDO-magte sal swaai, sal ander pro-duikboottegnologieë ongetwyfeld die wanbalans herstel.

Enkele voorbeelde kan hier ter illustrasie genoem word. Hoewel diepgaande ontwikkelinge in sensors en sensorplatforms indrukwekkend is, word daar reeds onverpoosd gestreef na die skep van kuberopleidingsomgewings wat ten doel het om ’n vyand se sensors te infiltreer, te manipuleer en aan te val (Hitchens 2019). Voorts bou die Amerikaanse Vloot tans voort op bestaande navorsing oor die gebruik van lasers om sensors en sensorplatforms te verblind en te ontwrig (Scott 2021:7). Terselfdertyd word daar vandag gegis oor die bedreiging van “swerms” OLV’s (en gelyklopend hiermee, die toekomstige bedreiging van ’n skool OOV’s). Dit is noemenswaardig dat ’n teen-OOV-swermstryd (“counter UAS-swarm fight”) reeds goed op dreef is, met die ontwikkeling van Lockheed Martin se MORFIUS, “’n OLV gewapen met ’n kragtige mikrogolf” wat verskeie teikens gelyktydig kan vernietig (Atherton 2021). Duikbootklankonderdrukking gaan terselfdertyd onverpoosd voort. Met dít in gedagte, is dit noemenswaardig dat een van die beslissende oorwegings in die ontwerp en vervaardiging van die Columbia-klas die noodsaaklikheid van nuwerwetse tegnologie was, veral tegnologie wat dié duikbootklas se sluipvermoë oor die volgende vier dekades sal verseker (O’Rourke 2020). Vervolgens sal die Columbia-klas met ’n kernreaktor, wat na bewering so stil is “dat dit minder klank as ’n 20 watt-gloeilamp sal voortbring”, toegerus word (Military-Today 2020). Soortgelyk aan die Virginia-klas-AK, sal die Columbia-klas van eggolose verf gebruik maak om die bedreiging van vyandige aktiewe sonar te verminder (Military-Today 2020). Op hul beurt is die Chinese Vloot koorsagtig besig om hul volgende generasie van BMDK’s met ’n pompstralerskroef (“pumpjet propulsor”) toe te rus. As ’n alternatief vir ’n konvensionele skroef, beloof pompstralerskroewe om duikbootklank wat deur kavitasie veroorsaak word, aansienlik te verminder (Tate 2020). ’n Laaste illustrasie is gepas: hoewel ontwikkelinge in die sensorskerpte van verkenningsatelliete onverpoosd voortgaan, is kenners dit eens dat selfs die mees gesofistikeerde verkenningsatelliete óf gefop kan word óf deur teenruimtewapens (“anti-space weapons”) vernietig kan word (Younger 2010:130; Skibba 2020).

’n Tweede les wat uit die geskiedenis van TDO geleer kan word, is dat tegnologiese ontwikkeling in TDO nooit ’n beslissende oorwinning in die stryd teen die opsporing en belangriker, die vernietiging van BMDK’s meebring nie. Sukses in die opsporing van enkele vyandige BMDK’s (wat nog te sê van ’n hele BMDK-mag) is byna altyd kortstondig én voorwaardelik. Só kon KWS slegs kernduikbote (en nie dieselaangedrewe duikbote nie) opspoor en uitsluitlik passief-akoestiese TDO bied. Tersaakliker, KWS kon nie ’n duikboot so presies opspoor dat ’n langafstandmissiel dit kon beskadig of vernietig nie (Friedman 2019:26). Waar KWS-data op ’n moontlike opsporingsarea van BMDK’s gedui het, kon TDO-magte en AK’s dié data uitbuit deur vinnig op die opsporingsarea toe te sak. Daar was egter geen waarborg dat nadat KWS ’n BMDK opgespoor het, kontak met dié duikboot herwin kon word nie en sonder kontak was daar geen kans dat die opgespoorde duikboot vernietig kon word nie (Friedman 2019:26). Hoewel Sowjet-BMDK’s in die Atlantiese Oseaan opgespoor kon word, was “dit beswaarlik die tipe strategiese TDO wat eensklaps die strategiese balans laat kantel het” (Friedman 2019:26).

Gedurende die Koue Oorlog was die uitvoer van ’n suksesvolle TDO-strategie aangewese op die integrasie en noue samewerking van verskeie TDO-magte, doeltreffende TDO-konsepte, aansienlike befondsing (gegewe die uiters hoë kostes verbonde aan TDO-operasies en die noodsaaklikheid van voortdurende TDO-gefokusde navorsing), maritieme geografie en die kundigheid van TDO-magte. Vandag is die versperrings om ’n uiters doeltreffende TDO-operasie te loods selfs nóg hoër, veral gegewe die ontwikkeling van toenemend stil duikbote. Daar is vandag slegs een vloot (dié van die Amerikaners) wat hoegenaamd doeltreffend in TDO is (Cote 2019:33; Friedman 2019:33). Meer as ooit vantevore vereis TDO uiters hoë investering, ’n mylpaal wat vir die meeste lande nie haalbaar is nie. Trouens, klem op TDO vereis disinvestering in ander moontlik belangriker vlootmissies. Die uitvoer van ’n TDO-missie verg voorts dat skaars hulpbronne (o.a. oppervlakskepe en vliegtuie) van ander kritieke missies herontplooi moet word. Gevolglik, soos Friedman (2019:33) uitwys, beteken dit dat “selfs al tree ’n betroubare duikbootopsporingsmetode na vore, die ontginning daarvan uiters duur, selfs onbekostigbaar, sal wees”. Dit is tersaaklik om hier te noem dat selfs die Amerikaanse Vloot, waarskynlik die enigste vloot wat oor die volle spektrum (“full spectrum”) TDO-vermoëns beskik, nie alle vyandige BMDK’s gelyktydig kan opspoor, agtervolg en vernietig nie, soos die Noordelike Kommandement se onvermoë gedurende Augustus 2020 om ’n Russiese duikboot aan die kus van Alaska op te spoor, duidelik wys. Gedurende die Koue Oorlog, vandag én in die toekoms, was en is dit duidelik dat daar met groot omsigtigheid te werk gegaan moet word wanneer daar aangeneem word dat ’n nuwe tegnologie die strategiese balans onherroeplik sal verander.

Die derde tersaaklike les wat uit die geskiedenis van TDO geleer kan word, is die belangrikheid van maritieme geografie vir TDO. Wat die ontwikkeling (én sukses) van KWS moontlik gemaak het, was nie die onvermoë van die Sowjetunie om innoverende tegnologiese ontwikkelinge voort te bring nie, maar “’n asimmetrie in die gevolge van ’n gemeenskaplike maritieme geografie” (Cote 2019:32). KWS-rignette was aangewese op ’n koppeling met die vasteland, waar ondersese kabels met dataverwerkingsfasiliteite verbind is. Soortgelyk aan KWS gedurende die Koue Oorlog, is die sleutel tot ondersese waarneming vandag die bestaan van ’n gunstige maritieme geografie (Cote 2019:32). Die uitwerking van ’n gunstige maritieme geografie op TDO kan ten beste geïllustreer word deur oorweging te skenk aan hoe die maritieme geografie wat die VSA en China in die Stille Oseaan deel, eersgenoemde bevoordeel.

Die gebruik van BAW-rignette deur die Amerikaanse Vloot in die Stille Oseaan bring mee dat enige Chinese duikboot wat poog om die Filippynse See of die groter Stille Oseaan vanaf die Geel See en die Oos- en Suid-Chinese See binne te vaar, opgespoor sal word (Cote 2019:33). Die teendeel is egter nie waar vir Amerikaanse AK’s en BMDK’s wat poog om die Chinese Binneseë (“Inner seas”) binne te dring nie (Cote 2019:33). BAW (of sodanige sisteme) is, soortgelyk aan KWS, aangewese op ’n koppeling met die vasteland. Vanuit die Amerikaanse perspektief beskou, word BAW-rignette in die Westelike Stille Oseaan aangebring (of is dalk reeds aangebring) (Cote 2019:33). Hierteenoor sal ’n dergelike Chinese BAW-sisteem vereis dat veseloptikakabels by die ingang na die Binneseë vanuit die Filippynse See gelê word, ’n enorme gebied wat vanaf die Oos- tot Suid-Chinese See strek, en waarvan die vlak water sal meebring dat dié kabels geensins in ’n oorlog beskerm kan word nie (Cote 2019:34). Die interaksie van maritieme geografie met tegnologie bevoordeel derhalwe sommiges meer as ander. Ten einde dié tekortkominge die hoof te bied, sal die Chinese, soos die Sowjetunie gedurende die Koue Oorlog, genoop word om toenemend staat te maak op die ontwikkeling en aanwending van duikbootgelanseerde ballistiese missiele, waartydens Chinese BMDK’s naby tuishawens kan patrolleer en vandaar vyandige strategiese teikens bedreig. Die afwesigheid van enige Chinese BAW sal beteken dat daar bykans géén manier vir die Chinese Vloot sal bestaan om die Amerikaanse Columbus-klasduikbote op te spoor nie (Cote 2019:34–5).

Oseanografiese inligting is nou verweef met die belangrikheid van maritieme geografie vir TDO. Oseanografiese data – onder andere, chlorofil- en suurstofvlakke, watertemperatuur, southeid en troebelheid – bied uiters nuttige inligting vir TDO én duikbootverbergingsoperasies (Wong 2021:8). Temperatuurlae in die oseaan is byvoorbeeld uiters veranderlik en juis hierom absorbeer dit beide breëband- en smalbandklank én beïnvloed die rigting en intensiteit van klankvoortplanting (Sasgen 2009:47). Sodanige omstandighede bemoeilik die opspoor van vyandige duikbote, ’n onderneming wat alreeds uiters twyfelagtig is (Sasgen 2009:47). Hoewel diepgaande oseanografiese kennis TDO-magte bemagtig om vyandige duikbote te jag, is die teendeel egter ook waar: sodanige kennis bemagtig duikbote om meer ongemerk op te tree en die waarskynlikheid van opsporing te verminder (Wong 2021:8). Daar word vandag toenemend van outonome onderwatersweeftuie (“autonomous underwater gliders”), wat uiters koste-effektief is en oor ’n reikafstand van etlike maande beskik, gebruik gemaak om oseanografiese inligting in te samel (Wong 2021:9). Verbeterde oseanografiese kennis, meen Friedman (2019:33), sal tot die voordeel van duikbote strek wat poog om hulself te verberg. Voorts sal die toenemende industriële gebruik van die oseane, wat die oseane eindelik luider sal maak, tesame met ’n toekomstige wêreld waarin meer lande duikbote ontplooi, enige toekomstige opsporingsmaatreëls bemoeilik (Friedman 2019:33).

Ondanks wat algemeen aanvaar word, is BMDK’s vandag en terloops, vir ten minste die volgende twee dekades, hoegenaamd nie kwesbaar vir enige vorm van TDO nie (Friedman 2019:33). Vier kragtige redes ondersteun dié gevolgtrekking. Een, om ’n enkele BMDK (wat nog te sê van ’n hele BMDK-mag) op te spoor, te agtervolg en te vernietig, is beswaarlik ’n maklike taak. Selfs indien sekere tegnologieë in die toekoms die opsporing van BMDK’s vergemaklik, bly die probleem van die vernietiging van ’n enkele BMDK (wat nog te sê van ’n hele BMDK-mag) ’n netelige een. Twee, die geskiedenis van TDO wys duidelik dat ontwikkelinge in militêre tegnologie ’n wederkerige proses is. Waar innoverende TDO-oplossings na vore tree, kan verwag word dat insgelykse innoverende pro-duikbootoplossings sal verskyn. Trouens, sodanige ontwikkelinge is reeds besig om te ontvou. Drie, tegnologiese ontwikkelinge in TDO bring nooit ’n beslissende oorwinning in die stryd teen die opsporing en belangriker, die vernietiging van BMDK’s mee nie. Selfs die beste opsporingsisteme het beperkings. Voorts berus ’n suksesvolle TDO-strategie op verskeie onderling afhanklike faktore, onder andere verskeie TDO-magte, doeltreffende TDO-konsepte, aansienlike befondsing, maritieme geografie en die kundigheid van TDO-magte. Slegs een vloot (dié van die VSA) beskik vandag oor die nodige vaardighede om ’n doeltreffende TDO-strategie te loods en selfs dié land se vloot kan nie alle vyandige BMDK’s gelyktydig opspoor, agtervolg en vernietig nie.

Vier, die geskiedenis van TDO leer verder dat maritieme geografie, met inbegrip van oseanografie, uiters belangrik vir sowel TDO as duikbootverberging is. Huidige en toekomstige akoestiese waarnemingstelsels sal steeds afhanklik van ’n koppeling met die vasteland wees, met die gevolg dat maritieme geografie sommige lande meer as ander sal bevoordeel. Oseanografiese data word toenemend verbreed deur die gebruik van onderwatersweeftuie, wat duikbootverberging verder sal versterk. Toenemende industriële gebruik van die oseane, tesame met die aantal lande wat duikbote ontplooi, sal die opsporing van BMDK’s selfs meer bemoeilik. Die prentjie wat hiér na vore tree, is een waarin die onkwesbaarheid van BMDK’s – vandag én in die toekoms – sal voortduur. Waar die tweedeslaanaanvalsmagte van kernstate onkwesbaar is, sal ’n kernafskrikkingstrategie uiters doeltreffend bly en strategiese stabiliteit voortduur.

 

6. Gevolgtrekking

Hierdie ontleding wys daarop dat diepgaande ontwikkelinge in veral afstandswaarneming nie BMDK’s as die hoeksteen van die tweedeslaanaanvalsmagte van kernstate kwesbaar laat nie. ’n Bespreking van die geskiedenis van TDO (en lesse wat hieruit geleer kan word), asook’n ondersoek na die praktiese uitdagings om ’n BMDK op te spoor, te agtervolg en te vernietig, lê die grondslag vir optimisme oor die voortdurende onkwesbaarheid van BMDK’s en gepaardgaande hiermee, die voortdurende stabiliteit van kernafskrikking. Ontluikende tegnologiese ontwikkelinge, onder andere grootdata, kunsmatige intelligensie en kwantumberekening, word ook dikwels voorgehou as ontwikkelinge wat moontlik vanaf 2050 TDO-magte meer doeltreffend kan maak. Anders as diepgaande ontwikkelinge in afstandswaarneming, is dié ontwikkelinge steeds ver in die toekoms geleë en vandag te vaag om werklik hul uitwerking op die kwesbaarheid van BMDK’s te verreken. Daar is egter drie redes tot optimisme rakende die voortdurende onkwesbaarheid van BMDK’s, ongeag die rigting van tegnologiese ontwikkeling. Een, soos Cote (2019:33) tereg uitwys, dit is “hoogs onwaarskynlik” dat enige toekomstige tegnologie ooit die oseaan geheel en al deursigtig sal maak. Twee, die geskiedenis van TDO wys daarop dat die stryd tussen TDO-magte en duikbote ’n voortdurende een is, een waarin ontwikkelinge in TDO nooit ’n beslissende oorwinning in die stryd teen die opsporing en belangriker, die vernietiging van BMDK’s meebring nie. Die geskiedenis van TDO is een van verrassings. Drie, en waarskynlik die belangrikste rede, selfs al word BMDK’s makliker om op te spoor, sal dit slegs ’n strategie van kernafafskrikking ondermyn en die moontlikheid van ’n voorkomende aanval verhoog, indien ’n toekomstige aanvaller sal glo dat al die BMDK’s van ’n kernstaat gelyktydig vernietig kan word. Derhalwe, vandag én in die nabye toekoms, is daar beswaarlik gronde om te glo dat BMDK’s, met inbegrip van die tweedeslaanaanvalsmagte van kernstate, kwesbaar is.

 

Bibliografie

Atherton, K. 2021. Drones vs. drones: Lockheed MORFIUS uses microwaves to kill swarms. Breaking Defense, 19 Maart. https://breakingdefense.com/2021/03/drones-vs-drones-lockheed-morfius-uses-microwaves-to-kill-swarms/ (20 Maart 2021 geraadpleeg).

Axe, D. 2021. Russia is building four special submarines to haul its weird doomsday drone. Forbes, 21 Januarie. https://www.forbes.com/sites/davidaxe/2021/01/21/russia-is-building-four-special-submarines-to-haul-its-grotesque-doomsday-drone/?sh=6a6708e33703 (26 April 2021 geraadpleeg).

Baylis, J., J.J. Wirtz en C.S. Gray (reds.). 2019. Strategy in the contemporary world. 6de uitgawe. Oxford, New York: Oxford University Press.

Christley, J. 2007. US nuclear submarines: the fast attack. Oxford: Osprey Publishing.

Clark, B., S. Cropsey en T.A. Walton. 2020. Sustaining the undersea advantage: disrupting anti-submarine warfare using autonomous systems. Washington, D.C.: Hudson Institute.

Cohen, E.A. 2019. Technology and warfare. In Baylis e.a. (reds.) 2019.

Cote, O.R. 2003. The Third Battle: innovation in the U.S. Navy’s silent Cold War struggle with Soviet submarines. Newport: Naval War College Press.

—. 2019. Invisible nuclear-armed submarines, or transparent oceans? Are ballistic missile submarines still the best deterrent for the United States? Bulletin of the Atomic Scientists, 75(1):30–5.

Deutsch, H.C. 1978. The influence of Ultra on World War II. Parameters, VIII(4):2–15.

Emley, B. 2017. How the diving bell opened the ocean’s depths. The Atlantic, 23 Maart. https://www.theatlantic.com/technology/archive/2017/03/diving-bell/520536/ (20 Januarie 2021 geraadpleeg).

Fitzgerald, J.R. en R.F. Pittenger. 2019. ASW – Will we ever learn? Proceedings, 145(4). https://www.usni.org/magazines/proceedings/2019/april/asw-will-we-ever-learn (22 Januarie 2021 geraadpleeg).

Friedman, N. 2019. Strategic submarines and strategic stability: looking towards the 2030s. Canberra: The National Security College.

—. 2020. Strategic submarines and strategic stability: looking towards the 2030s. In Medcalf e.a. (reds.) 2020.

Geist, E. en A.J. Lohn. 2018. How might artificial intelligence affect the risk of nuclear war? Santa Monica: Rand Corporation.

Globe Composite. 2021. A brief history of anti-submarine warfare. https://www.globecomposite.com/blog/history-anti-submarine-warfare (20 April 2021 geraadpleeg).

Goldstein, L.J. 2019. China is building a “undersea Great Wall” to take on America in a war. The National Interest, 27 Oktober. https://nationalinterest.org/blog/buzz/china-building-undersea-great-wall-take-america-war-90601 (23 Augustus 2020 geraadpleeg).

Hackmann, W.D. 1986. Sonar research and naval warfare 1914–1954: a case study of a twentieth-century establishment science. Historical Studies in the Physical and Biological Sciences, 16(1):83–110.

Hambling, D. 2020. Listening down: ULF sonar attracts new interest for ASW applications. Janes Navy International, 125(7):10–1.

Hitchens, T. 2019. AFRL cyber center to train how to hack sensors (think IoT). Breaking Defense, 8 Oktober. https://breakingdefense.com/2019/10/afrl-cyber-center-to-train-how-to-hack-sensors-think-iot/ (9 Oktober 2019 geraadpleeg).

Holwitt, J.I. 2019. Sub vs. sub: ASW lessons from the Cold War. Proceedings, 145(10). https://www.usni.org/magazines/proceedings/2019/october/sub-vs-sub-asw-lessons-cold-war (10 Maart 2021 geraadpleeg).

Howe, J.A. 1971. Wolfpack: measure and counter. Naval War College Review, 23(8):61–5.

Janicki, D.A. 2014. The British blockade during World War I: the weapon of deprivation. Inquiries, 6(6). http://www.inquiriesjournal.com/articles/899/the-british-blockade-during-world-war-i-the-weapon-of-deprivation (11 Februarie 2021 geraadpleeg).

Klare, M.T. 2020. A strategy for reducing the escalatory dangers of emerging technologies. Arms Control Today. https://www.armscontrol.org/act/2020-12/features/strategy-reducing-escalatory-dangers-emerging-technologies (12 Januarie 2021 geraadpleeg).

Lautenschlager, K. 1986. The submarine in naval warfare, 1901–2001. International Security, 11(3):94–140.

Layne, C. 2020. Coming storms: the return of great-power war. Foreign Affairs, 99(6):42–8.

Lieber, K.A. en D.G. Press. 2017. The new era of counterforce: technological change and the future of nuclear deterrence. International Security, 41(4):9–49.

–. 2018. The new era of nuclear arsenal vulnerability. Physics and Society, 47(1):2–6.

Lindsey, G.R. 1976. Tactical anti-submarine warfare: the past and the future. The Adelphi Papers, 16(122):30–9.

Medcalf, R., K. Mansted, S. Frühling en J. Goldrick (reds.). 2019. The future of the undersea deterrent: a global survey. Acton: National Security College.

Military-Today. 2020. Columbia class. http://www.military-today.com/navy/columbia_class.htm (15 Mei 2020 geraadpleeg).

Mizokami, K. 2019. The Navy just ordered the “Orca,” an Extra-Large Unmanned Submarine by Boeing. Popular Mechanics, 14 Februarie. https://www.popularmechanics.com/military/navy-ships/a26344025/navy-extra-large-unmanned-submarines-boeing/ (12 Junie 2019 geraadpleeg)

—. 2020. Rethinking the triad: Does a nuclear “dyad” make more sense? Popular Mechanics, 23 Februarie. https://www.popularmechanics.com/military/weapons/a31046179/nuclear-triad/ (12 November 2020 geraadpleeg).

Moe, B. 2003. The impact of the invention of the torpedo on the U.S. Navy. Naval Undersea Warfare Center, 1 September. https://apps.dtic.mil/dtic/tr/fulltext/u2/a498698.pdf (18 Februarie 2021 geraadpleeg).

National Oceanic and Atmospheric Administration. 2001. The NOAA diving manual. Washington, D.C.: U.S. Department of Commerce.

Naval History and Heritage Command. 2017. The submarine Turtle: naval documents of the Revolutionary War. https://www.history.navy.mil/research/library/online-reading-room/title-list-alphabetically/s/submarine-turtle-naval-documents.html (26 Februarie 2021 geraadpleeg).

O’Rourke, R. 2020. Navy Columbia (SSBN-826) class ballistic missile submarine program: background and issues for Congress. CRS Report, 28 Julie. https://crsreports.congress.gov/product/pdf/R/R41129/182 (21 Augustus 2020 geraadpleeg).

Osborn, K. 2019. This photo is dangerous: it could be the future of navy submarines. The National Interest, 24 Junie. https://nationalinterest.org/blog/buzz/photo-dangerous-it-could-be-future-navy-submarines-63956 (12 Januarie 2020 geraadpleeg).

Peck, M. 2020. New anti-torpedo decoys could give U.S. Navy submarines a fighting chance against Russia or China. The National Interest, 3 Februarie. https://nationalinterest.org/blog/buzz/new-anti-torpedo-decoys-could-give-us-navy-submarines-fighting-chance-against-russia-or (20 Februarie 2020 geraadpleeg).

Roskill, S.W. 1956. War at sea 1939–1945. Volume II: the period of balance. London: HMSO.

Sagan, S.D. en K.N. Waltz (reds.). 2013. The spread of nuclear weapons: an enduring debate. 3de uitgawe. New York, Londen: W.W. Norton.

Sasgen, P. 2009. Stalking the Red Bear: the true story of a U.S. Cold War submarine’s covert operations against the Soviet Union. New York: St. Martin’s Press.

Scott, R. 2020. SeaGuardian UAS performs first flight trials. Janes Navy International, 125(8):6.

—. 2021. CNO visit reveals ODIN-HELCAP laser weapon transition plan. Janes Navy International, 126(1):7.

Skibba, R. 2020. The ripple effects of a space skirmish. The Atlantic, 12 Julie. https://www.theatlantic.com/technology/archive/2020/07/space-warfare-unregulated/614059/ (12 April 2021 geraadpleeg).

Snyder, R., B. Pelopidas, K.A. Lieber en D.G. Press. 2019. New era or new error? Technology and the future of deterrence. International Security, 43(3):190–3.

Taddiken, B. en K. Krock. 2021. 66 Years of undersea surveillance. Naval History, 35(1). https://www.usni.org/magazines/naval-history-magazine/2021/february/66-years-undersea-surveillance (11 Maart 2021 geraadpleeg).

Tate, A. 2020. Research papers point to PLAN’s next-gen submarine technologies. Jane’s Defence Weekly, 57(17):4.

Toti, W.J. 2014. The hunt for full-spectrum ASW. Proceedings, 140(6). https://www.usni.org/magazines/proceedings/2014/june/hunt-full-spectrum-asw (5 Desember 2020 geraadpleeg).

Vavasseur, X. en R. Scott. 2020. Quiet revolution: FREMM multi-mission frigates strengthen the backbone of France’s surface fleet. Janes Navy International, 125(8):20–5.

Venter, A., S. Botha, L. du Plessis en M. Alberts. 2017. Verklarende politieke woordeboek: tweetalige kernterme en -definisies in Politieke Wetenskap. Kaapstad: Juta.

Waltz, K.N. 2013. More may be better. In Sagan en Waltz (reds.) 2013.

Wong, K. 2021. Lost in translation: growing number of Chinese-made underwater gliders discovered in Indonesian waters. Janes Navy International, 126(2):7–9.

Younger, S.M. 2010. The bomb: a new history. New York: HarperCollins.

 

Erkenning: Ek bedank die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir die finansiële ondersteuning van navorsing waarop hierdie artikel steun.

 

Eindnotas

1 Hoewel die term “nuclear submarine” as “kernduikboot” in Afrikaans vertaal word, is ’n verdere onderskeid noodsaaklik. Die Engelse term “nuclear-powered attack submarine (SSN)”, wat dui op die aandrywingsbron van ’n duikboot (te wete, kernenergie), word vervolgens onderskei van “nuclear powered ballistic missile submarine” (Ship, Submersible, Ballistic, Nuclear (SSBN)), wat dui op die bewapening van die duikboot. Daar bestaan huidig geen onderskeid tussen “SSN” en “SSBN” in Afrikaans nie. ’n Meer noukeurige vertaling sal heet: kernaangedrewe aanvalsduikboot (Aanvalsduikboot, kernaangedrewe (AK)) vir die SSN en kernaangedrewe ballistiese missielduikboot (Ballistiese Missielduikboot, Kernaangedrewe (BMDK)) vir die SSBN. Die term kernduikboot verwys na enige duikboot wat deur kernenergie aangedryf word.

2 Die snorkel was op hierdie stadium nog nie vervolmaak en wyd in gebruik nie (Clark e.a. 2020:20).

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Kernafskrikking in ’n tydperk van ingrypende tegnologiese ontwikkeling: Hoe kwesbaar is kernaangedrewe ballistiesemissielduikbote werklik? appeared first on LitNet.

Literêre kartering van plek: ’n geokritiese ondersoek na materiële verbeelding en ingeplaaste skryf in twee “Tuinverse”

$
0
0

Literêre kartering van plek: ’n geokritiese ondersoek na materiële verbeelding en ingeplaaste skryf in twee “Tuinverse”

Susan Smith, Departement Afrikaans, Universiteit van Fort Hare

LitNet Akademies Jaargang 18(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Die dinamiese verhouding tussen plek, ruimte en literatuur was nog altyd belangrik in literêreteksontleding, en ná die ruimtelike draai (spatial turn) in geestes- en sosiale wetenskappe gedurende die afgelope dekade, des te meer. ’n Transformasie van literêre en kartografiese praktyke van ondersoek bied nuwe perspektiewe op die wyse waarop die verteenwoordiging van plek in literêre tekste ondersoek kan word, in aanvulling tot bestaande ekokritiese praktyke.

Ruimte en plek is nie beperk tot werklikewêreldplek nie, maar sluit die verkenning van ander- en buitewêreldse plekke in, byvoorbeeld plekke van mite, fantasie, wetenskap, videospeletjies en die kuberruimte (Tally 2014a:1). Om die wêreld om ons as ’n multidimensionele sisteem van plekke te verstaan veronderstel beide kennis en verbeelding. Die term imaginative geography is vir die eerste keer in 1978 deur Said (1978:49) gebruik en word wyd erken en toegepas, juis ook deur na die fiktiewe of, in materiële terme, na die niebestaande te verwys.

In hierdie artikel word twee sentrale vrae gestel: Tot watter mate vind literêre kartografie in die twee gekose verse in die Byderhand Tuinverseprojek plaas, en op watter wyse word materiële verbeelding aangewend in die tot stand bring van die twee gedigte? By implikasie word daar ook aandag gegee aan die vraag na die plekspesifieke en ingeplaaste aard van die gedigte en hoe dit met ’n literêr-kartografiese werkwyse verband hou. Daar sal gepoog word om hierdie vrae te beantwoord teen die agtergrond van die teoretiese raamwerke van literêre kartografie en materiële verbeelding binne literêre ruimtestudies.

Die verskille en ooreenkomste tussen geokritiek en ekokritiek word nagegaan, terwyl literêre kartografie as geokritiese skryf- en ontledingstrategie van naderby bekyk word. Om te verstaan hoe die materiële verbeelding van plek onderskei word van werklikewêreldplek, word onderskeid getref tussen drie kategorieë van plek, naamlik werklikewêreldplek (as reële, konkrete plek), fiktiewe plek (as totale konstruksie van die verbeelding), en ’n derde ruimte, waarin die werklikewêreld- en die niewerklikewêreldplekke bymekaarkom en oorvleuel as ’n Ander, ’n “real-and-imagined” plek (Soja 1996). Hierdie derde ruimte is ’n plek “where everything comes together, […] subjectivity and objectivity, the abstract and the concrete, the real and the imagined, the knowable and the unimaginable, the repetitive and the differential, structure and agency, mind and body, consciousness and the unconscious, the disciplined and the transdisciplinary, everyday life and unending history” (Soja 1996:67). Die studie van die derde ruimte het vir die geokritiek ten doel om as ’n interpretatiewe en analitiese metode aangewend te word wat die aandag fokus op die gelaagde fisiese en ruimtelike betekenis van plek in literêre tekste.

Tersaaklike inligting oor die Byderhand Tuinverseprojek word kortliks aangestip as agtergrond om die verband tussen die gedigte, plekspesifisiteit en literêre kartering aan te dui. Die ondersoekmetodiek is praktykgebaseerde navorsing wat veral gerig is op besinning oor die prosesse van kartering én oor die aanwending van materiële verbeelding in die gekose gedigte, en daar word ook kortliks na praktykgerigte besinning en kritiek as deel van die proses gekyk.

Die twee tekste wat ondersoek word, is die gedigte “Onder die soetdoring” van Hein Viljoen (Bylae A) en “By die soetdoring” deur die skrywer van hierdie artikel (Bylae B). Uit die gedigte, wat albei die soetdoring as onderwerp het en dieselfde plekspesifisiteit deel, is dit duidelik dat verskillende werkswyses met verskillende uitkomste deur die twee digters gevolg is om ingeplaaste skryf te bewerkstellig. Die aanwending van materiële verbeelding as karteringstrategie verskil eweneens, hoewel daar ook ooreenkomste aangetoon kan word. Die navorsing lei tot die gevolgtrekking dat die twee gedigte individueel uniek bydra tot die gelaagde, multifokale en veelstemmige literêre kartering van dieselfde geografiese plek. “By die soetdoring” maak meer van materiële verbeelding gebruik in die tot stand bring van die teks, asook om ’n groter oproep te doen op die leser se eie materiële verbeelding in die realisering van die gedig. Hierteenoor betrek “Onder die soetdoring” weer die ruimte van die werklikewêreldplek, en aktiveer dit tot ’n groter mate die leser se liggaamlike sensoriese ervaring as die ander gedig. Deur die literêre kartografie van die werklikewêreld-soetdoringplek kom ’n dialektiese verwantskap tussen die plek, die digters en die veelvuldige lesers tot stand wat alles multifokalies tot veelvuldige geleefde ondervindinge en persepsies van dieselfde plek bydra.

Trefwoorde: derderuimteplek; geokritiek; ingeplaaste skryf; kartering; literêre kartografie; materiële verbeelding; niewerklikewêreldplek; plekspesifisiteit; ruimtestudies; werklikewêreldplek

 

Abstract

Literary cartography of place: a geocritical exploration of material imagination and emplaced writing in two garden poems

The dynamic relationship between place, space and literature has always been important in literary text analysis, and after the spatial turn in the humanities and social sciences over the past decade, even more so. A transformation of literary and cartographic practices of inquiry offers new perspectives on the way in which the representation of place in literary texts can be explored, in addition to existing ecocritical practices.

Space and place are not limited to real-world place, but include exploration of other- and outside-world places, e.g. places of myth, fantasy, science, video games and cyberspace (Tally 2014a:1). Understanding the world around us as a multidimensional system of places presupposes both knowledge and imagination.

In this research article two poems are selected from the Byderhand Tuinverseprojek (At hand Garden Poems Project) at the NWU (North-West University) Botanical Garden in Potchefstroom. Two central questions are asked: To what extent does literary cartography take place in the selected poems, and in what way is material imagination used in the creation of the two poems? By implication, attention is also given to the question of the place specificity and emplaced nature of the poems and how they relate to a literary cartographic approach. Attempts will be made to answer these questions against the background of the theoretical frameworks of literary cartography and material imagination within literary spatial studies.

The differences and similarities between geocriticism and ecocriticism are examined, while literary cartography is looked at more closely as a strategy of geocritical writing and analysis. To understand how material imagination of place and real-world place differ, a distinction is made between three categories of place, namely real-world place (as a real, concrete place), fictional place (as a total construction of the imagination), and a third space in which the real-world and the non-real-world places come together and overlap as Another, a “real-and-imagined” place, in the words of Soya (1996). This third space is a place “where everything comes together, […] subjectivity and objectivity, the abstract and the concrete, the real and the imagined” (Soja 1996:67). The study of third space thus offers geocriticism the opportunity to be used as an interpretive and analytical method that focuses attention on the layered physical and spatial meaning of place in literary texts. By asking geographical questions to literary texts and literary questions to geographical representations, natural and human sciences are brought together in a creative way and emphasis is placed on the personal and phenomenological aspects of geography and science.

Literary cartography can be seen as a number of cartographic techniques applied to a text whereby the text is subjected to a critical revaluation so that the graphic potential receives greater focus, either through diagrams or other nonverbal material which activates new discourse on the specific location of the text. This means that cartographic practices aim to establish an objective, verifiable topicality as an anchor, while acknowledging the formative capacity of literary representation.

Cartographic practices in literary texts takes place in many ways. First, of course, it refers to the physical presence of maps, especially in prose texts, where maps are used to help the readers orient themselves and visualise a place in the text. These maps as meaning-bearing systems can take the form of physical maps, diagrams or any further non-verbal extra-textual information that contribute to the meaning-giving of the place in the text. When these maps and data correspond to verifiable real-world tangents or interfaces, the interfaces serve as anchors to ground the text and in Soja’s (1996:62) terms are referred to as firstspace. Where the map deviates from the real-world place or creates a fictional world in accordance with the text as a whole, we are dealing with the formative capacity of the text and such a fictional text space can be seen as a secondspace (Soja 1996:65). The overlap of real-world space with non-real-world space, and thus the creation of a thirdspace (Soja 1996:65–7) is brought about by elements of material imagination, including three closely related aspects, namely double vision, place of memory value and inherited value.

Material imagination does not necessarily refer only to fictitiousness, to something which in material terms is non-existent, but also to an idea that humans are simply unable to understand spatial layers and their connections to society and the environment without imagination. Double vision or “seeing double” Tsay (2014:57) presupposes a gaze that exposes the underlying places of memory and activates an imaginary and affective reality to both the poet and the reader. By means of a glance to the past, a double presence is activated in the same place, both past and present, and a double charge attaches emotional value to the place, which in turn contributes to place attachment.

Related to double vision is what Nora (1998:xv–xvi) calls “the place of memory”, where the fictional is layered over the real and the personal over the geographical. Nora uses the term le lieu de mémoire, especially in relation to monumental places, places of collective memory, landmarks and sites of memory that are meant to connect both the past and the present with meaning, where the “residual sense of continuity remains” (Tsay 2014:51), a practice that implies the reader’s role and the application of certain reader practices. When the word remember occurs or is implied in a text, it unlocks the residual value and residual continuity, because memory is often rooted in the concrete, in place, gestures, images and objects. The role of the reader and his referential knowledge and subjective, experienced memory is thus as much a part of the literary mapping as that of the author.

Imaginary environment or imaginary place and (with it) the tangibility of material imagination, which is created by mapping, are therefore also the places that are visited by the author or poet through a variety of access points. These access points can be through photographs, through video material, through digital sources, through research, through dreams, through visualisations; therefore through material imagination or imagined geography. Belonging to these access points are also the so-called “third nature” (Wark 1994:115) of media-produced virtual realities that give the viewer access to the virtual space.

Thus, although the imaginer has not necessarily physically been in a given place, it can happen, in some cases, that the intensity of the imagined place is hardly reduced by it, according to Buell (2005:73). The intensity of the imagined place is related to previous place experiences and place attachments whereby a sense of place acts as a series of place experiences or palimpsests in which not only similar but opposite places enter into conversation with each other through material imagination.

The two texts examined are the poems “Under the sweet thorn” by Hein Viljoen (Appendix A) and “By the sweet thorn” by Susan Smith (Appendix B). It is clear from the poems, which both have the sweet thorn tree as subject and which have the same place specificity, that different methodologies with different outcomes were followed by the two poets to bring about emplaced writing. The use of material imagination as a mapping strategy also differs, although similarities can be shown. The research leads to the conclusion that the two poems individually contribute uniquely to the layered, multifocal and multi-voiced literary mapping of the same geographical location. Through the literary cartography of the real-world place of the sweet thorn tree, a dialectical relationship is established between the place, the authors and the multiple readers, all of which contribute multifocally to multiple lived, relived and inherited experiences and perceptions of the same place.

Material imagination and (with it) the embrace of digital practices are ultimately part of a diverse range of agencies that contribute to the story of the sweet thorn tree. Practice-based research makes it possible to reflect on the various nuances of the mapping of place and to gain access to the co-creation of material imagination and of the agency of place itself. Literary mappings of place, not only in the chosen two texts but in all the texts in the project that have the same place-specific space as subject, contribute to an understanding of place that is more than the cartographic real-world place. It explores the boundaries of place; it finds possibilities in the folds of reality and imagination. The texts do not reproduce place, but realize it through new virtualities, interact with place in conversation and, through its performative nature, create the possibility of bringing about change in perceptions of place. Through material imagination, unlocked by double vision, inherited value of place and memory, and through place attachment and insertion, a layered, poly-sensory and multifocal perspective of place is created. The story of the matter of the sweet thorns continues. It does not depend on the story of one person; the vibrant survival and retelling of matter’s narratives presupposes an entanglement of agencies; the human body is the privileged subject for place imagination, place experience and place projection.

Keywords: emplaced writing; geocriticism; literary cartography; mapping; material non-real world space; imagination; place specificity; real-world space; spatial studies; thirdspace place

 

1. Inleiding

Dit is teen hierdie agtergrond dat Tally toenemend klem op ruimtelikheid en veral literêre kartografie plaas. Vir Tally (in Darici 2015:29) is ons voortdurend omring deur “profound spatiality” op die gebiede van postmoderne kuns, argitektuur, letterkunde en filosofie, en hy bestempel kartering van plek as die enkele belangrikste aksie tans in ruimtestudies, wat onvermybaar is in enige eietydse studie van literatuur.

Literêre ruimtestudies in ’n era van globalisering is dus beslis nie toevallig nie; globalisering, multi- en transnasionalisme, die groeiende belangstelling in literatuur van die Globale Suide (voorheen die Derde Wêreld) en ander vorme van kultuurgrensoorgang plaas geokritiek in ’n uitstekende posisie om hierdie verskynsels aan te spreek, en deur ruimte, plek en kartering word mobiliteit en buigbaarheid betrek. Globalisering het die wyse waarop uiteenlopende en selfs teenstrydige plekke krities interkonnektief bestaan, met ander aan mekaar verbind is (hoewel die interkonneksies nie altyd noodwendig sigbaar is nie), na vore gebring. Die transformerende effek van tegnologie, wat meer doen as om net ons sin vir ruimte en plek uit te brei, verruim ook op reële wyse hoe plek neerslag vind in die letterkunde.

In die ondersoek na die verteenwoordiging van plek in literêre tekste, die verhouding tussen literatuur, geografie en kartografiese praktyke, en die rol van plek en ruimte in kritiese teorie, is dit duidelik dat inter- en transdissiplinêre benaderings produktiewe verbintenisse met verskeie dissiplines tot gevolg het. Om geografiese vrae aan literêre tekste te stel, en literêre vrae aan geografiese representasie te stel, bring mee dat geokritiek die natuur- en menswetenskappe by mekaar uitbring. In hul voorwoord tot Ecocriticsm and geocriticism wys Tally en Battista (2016:ix) op die groot rol wat ruimte- en plekgeoriënteerde literêre studies (uitgevoer onder die vaandels van literêre geografie, literêre kartografie, geofilosofie, geopoësie, geokritiek, ekokritiek of ruimtelike menswetenskappe in die algemeen) gespeel het om eietydse literêre kritiek te transformeer deur die aandag op die dinamiese verhoudings tussen plek, ruimte en literatuur te vestig.

Een van die raakpunte tussen plek- en ruimtegeoriënteerde literêre studies soos geopoësie, geokritiek, ekokritiek en ekopoësie is die belangstelling in literêre kartografie as ’n wyse om na plek te kyk, waar die fokus nie net op fiksionele en werklikewêreldplekke val nie, maar ook op aanwending van materiële verbeelding in die tot stand bring van verbeelde plekke. Veral van belang is Tally en Battista (2016:ix) se stelling dat ruimtekritiek, anders as wat sommige veralgemenings dit het, nie beperk is tot werklikewêreldplekke nie, maar veral verbeelde plekke insluit, en dit is hierin waar die kern van geokritiek en literêre kartografie lê. Die opstel van ’n fisiese kaart van ’n niewerklike (verbeelde) of werklikewêreldplek van ’n teks is maar een van talle kartografiese praktyke. Volgens Tally (2016a:118) moet literêre kartografie nie noodwendig gesien word as ’n letterlike vorm van kartering nie; dit veronderstel eerder die wyse waarop ’n gegewe literêre teks funksioneer as ’n figuurlike kaart wat gebruik word vir betekenisgewing van plek in die teks. Ter verheldering van Tally se stelling sou mens kon aanvoer dat literêre kartografie sigself besig hou met die kartering, hetsy letterlik of figuurlik, van die spesifisiteite van sowel werklikewêreld- as niewerklikewêreldplek (verbeelde plek), die onderlinge samehang van hierdie spesifisiteite en die wyse waarop die elemente van plek bydra tot die betekenisgewing van plek in die teks.

Ruimtes in literêre tekste is nie die enigste wyse waarop plekke verbeel kan word nie, en letterkunde leen sigself op ’n baie spesifieke wyse tot bespiegelende, kreatiewe denke en dit wat Tally in sy onderhoud met Darici “empowered imagination” (Darici 2015:30) noem. Die rol van verbeelding en die verhouding tussen plek, teks en verbeelding word in besonder deur Lawrence Buell ondersoek in The future of environmental criticism: Environmental crisis and literary imagination (2005). Hy wys daarop dat alle pogings om landskap en plek te vertekstualiseer aan beperkinge onderworpe is, veral die sintuiglike ervaring en ook persoonlike, sosiokulturele en ideologiese aspekte van plek (2005:33). Daar is geen een-tot-een-ooreenkoms tussen teks en wêreld nie; taal kan nie die reële ekstratekstuele landskap herhaal nie, net soos die teks ook nie van mimesis en referensialiteit as lense vir die verstaan van plek kan ontsnap nie (2005:36).

Om beter onderskeid te tref tussen die verskillende ruimtes of plekke wat in ’n teks tot stand gebring word, word daar gebruik gemaak van Soja (1996) se onderskeid van eersteruimteplek (reële werklikewêreldplek), tweederuimteplek (fiktiewe plek) en die sogenaamde derderuimteplek. Kortliks kom dit op die volgende neer: Eersteruimteplek is sigbaar, meetbaar en objektief bepaalbaar en kom meestal ooreen met Lefebvre (1991) se “perceived space”. Tweederuimteplek word geassosieer met Lefebvre (1991) se “conceived space”. Tweederuimteplek het te make met menslike emosie in kombinasie met ’n spesifieke eersteruimteplek, dus ’n normatiewe en subjektiewe blik op plek. Waar daar in eersteruimteplek ’n ontleding van die plek gegee word, poog tweederuimteplek om emosionele waarde aan daardie ontleding toe te voeg. Dit is ook ’n ruimte van beplanning en verbeelding, ’n fiktiewe ruimte as konseptualisering. Soja se derderuimteteorie word veral toegepas in literêre kartografie en geokritiek, waarin werklikewêreld- en niewerklikewêreldplek oorvleuel as werklike-en-verbeelde plek. Soja se derderuimteteorie word van toepassing gemaak op ’n verskeidenheid van dissiplines, maar dit is veral in die veld van literêre kartografie waarin die derderuimteplek vir literêre kritici van belang is.

 

2. Geokritiek en literêre kartografie

Geokritiek as literêre teorie vestig die aandag daarop dat kartografie nie langer gesien word as die uitsluitlike terrein van amptelike kartograwe nie, maar ook as ’n aksie van ’n wye verskeidenheid van instansies en individue wat op ’n gegewe tydstip vir die voorstelling van ’n bepaalde geografiese ruimte verantwoordelik is. Die geograaf is ook ’n skrywer, sê die Franse teoretikus Bertrand Westphal (2011:x) en voorstellingstegnieke wat in wetenskappe soos geografie gebruik word, het analogiese waarde ten opsigte van verbeeldingskrywing. In navolging van die werk van onder andere Foucault, Lefebvre en Soja oor ruimte en plek erken ’n geokritiese benadering dat die voorstelling van ruimte en plek ’n proses is waarin grense oorskry word en nuwe verhoudings tussen plekke en mense en dinge tot stand kom.

Die behoefte om deel te wees van ’n plek, en die teenpool daarvan, om “verlore” te wees, is universeel-menslik. Die ondervinding van “verlore wees” is direk verwant aan ons behoefte as mense om onsself op ’n bepaalde plek vas te pen of te herken – ’n herkenning van onsself as vaste punt tussen ander vaste, herkenbare punte. Tally (2013:43) assosieer kartering met ’n toestand van konstante disoriëntasie waardeur ons, hoe meer ons ’n kaart gebruik, paradoksaal juis al hoe meer verlore voel. Kartering is ’n reaksie op “verlore wees”, en die kaart is, ten beste, slegs ’n voorwaardelike en tydelike oplossing – kartering en herkartering gaan altyd voort.

Westphal se teorie van geokritiek beklemtoon, in pragmatiese en literêre terme, die koppelvlak tussen fiksionele voorstelling van werklikewêreldplekke en die werklikewêreldplekke self. Die fokus val nie net op geografiese verwysings nie, maar op multifokalisering wat van die gevaar van perspektiefbeperkinge ontsnap. Die doel is om ’n polifoniese en dialogiese begrip (Prieto 2012:4) van die gegewe plek tot stand te bring deur na soveel moontlik tekste te kyk en daardeur ’n jukstaposisie van tekste uit verskillende perspektiewe aan te bied.

Vervolgens word daar na die definiëring van geokritiek gekyk, terwyl literêre kartografie en materiële verbeelding as geokritiese praktyke ook toegelig word.

2.1 Geokritiek

Westphal betrek die term géocritique in verskeie van sy werke, waaronder veral Geocriticism: Real and fictional spaces (vertaal deur Tally 2011). Westphal se primêre belang lê by die literêre verteenwoordiging van plek, terwyl omgewingspolitiek en “nature writing”, wat dikwels ook met ekokritiek geassosieer word, sekondêre belange is (Prieto 2012:1; Westphal 2011:x). Hoewel ekokritiek en geokritiek breë vlakke van ooreenkoms toon en aanvullend tot mekaar is, is dit vir die kritikus lonend om die verskille tussen die twee te bekyk in ’n poging om tot ’n helder definisie van geokritiek te kom.

Die onderskeid tussen geokritiek en ekokritiek kan ten beste verduidelik word deur te wys op die verskil in die onderskeie fokusse: Terwyl ekokritiek daarop fokus om deur middel van merkers soos plek ’n beter begrip van die teks te kry, fokus geokritiek daarop om ’n beter begrip van plek te kry deur tekstueel ’n multifokale blik op plek te werp.

Oor die onderskeid tussen literêre kartografie en geokritiek skryf Tally in sy “Introduction on geocriticism” soos volg: “Using literary cartography, a writer maps the social spaces of his or her world; a geocritic would read these maps, drawing particular attention to the spatial practices involved in literature” (Tally 2011:1).

Tally gee ’n uitgebreide definisie van geokritiek waarin vier hoofpunte aangebied word oor die aard van geokritiek, naamlik die geogesentreerde aard van geokritiek, die aanvaarding van hibriede, multifokale perspektiewe eerder as een enkele perspektief, die sintuiglikheid van waarnemings oor plek, hetsy konkrete of gerealiseerde plek, en laastens die realisering van beide geometriese en filosofiese koördinate van plek (Tally 2011:xiv). Hoewel daar verskille tussen Tally en Westphal se sieninge oor geokritiek bestaan, sluit Westphal (2011:xi) by bogenoemde aan deur self te wys op vier voorwaardes van geokritiek, naamlik geosentrisme, multifokalisasie, polisintuiglikheid en stratigrafiese perspektief.

’n Bondige definisie van geokritiek is dus dat geokritiek ’n geogesentreerde literêr-teoretiese raamwerk is waarin plek sentraal staan en waarin literêreteksontleding aangewend word om ’n breë, multifokale blik op plek te verkry. Geokritiek bevorder ’n polisintuiglike benadering tot plek waarin plek gesien word as ’n koppelvlak tussen die fiktiewe verteenwoordiging van werklike wêreld en die reële geografiese en historiese werklikewêreldplekke self, dus ’n gelaagde, tyddefiniërende perspektief op plek.

Westphal (2011:xi) se insette laat die leser toe om te sien op watter wyse verskeie tekste ’n gekose lokaliteit verteenwoordig, deur ’n studie van hierdie onderskeie perspektiewe. Hoewel onvolledig, kan geokritici ’n relatief onbevooroordeelde en gelaagde beeld van ’n plek ontwikkel. Westphal onderskei voorts drie teoretiese begrippe, naamlik ruimtetemporaliteit, transgressiwiteit en referensialiteit. Geokritiek, as interdissiplinêre metode van literêre ontleding, fokus nie net op die temporale data soos die verhouding tussen die lewe en tyd van die skrywer, die geskiedenis van die teks of die narratologie van die teks nie, maar ook op die ruimtelike en tyddata van die plek.

Volgens Westphal (2011:xi) word referensialiteit gekarakteriseer deur konstante ossilasie waardeur die referent nie altyd werklik vasgepen kan word nie. Referensialiteit verwys dus na die verhoudings tussen werklikheid en fiksie, tussen die ruimtes van die werklike wêreld en die ruimtes van die teks (Westphal 2011:6). Persepsie van plek en voorstelling van plek is nie dieselfde ding nie en daar is geen vaste begrip of onveranderbare plekkriteria en geen statiese lesing van topologiese data nie. Westphal se teorie van geokritiek is ’n ondersoekende kritiese praktyk of stel praktyke waardeur lesers, navorsers en kritici deur geleefde ervaring en verbeelde projeksies betrokke raak by die ruimtes en plekke wat die lewe betekenisvol maak.

Geokritiek is dus inherent multifokaal en ondersoek op dieselfde tydstip ’n verskeidenheid van onderwerpe verwant aan ’n gegewe plek, dikwels dan een plek, soos in die geval van die Tuinverseprojek en die gekose gedigte. Dit onderskei sigself dus van praktyke waarin daar vanuit ’n enkele perspektief gekyk word, wat hierdie teoretiese benadering ook binne die kader van die postmodernisme posisioneer. Die onderliggende spanning tussen vertelling en beskrywing, soos tussen teks en beeld of selfs tussen tyd en ruimte, verlewendig die vertelling – ’n verstrengelende en oorvleuelende kreatiewe aksie van verkenning en aanbieding (Tally 2014a:2). ’n Produktiewe en kreatiewe dubbelsinnigheid word deur literêre kartografie tot stand gebring – gevorm deur interpretasie en interpretatiewe raamwerke wat kartering selfs voorafgaan. Die literêre teks is iets wat tegelyk karteer en gekarteer moet word. Literêre kartografie werp dus lig op dit wat gesien kan word, maar ook dit wat nié gesien word nie – ’n spanning tussen narratief en beskrywing in literêre kartografie, wat Tally die “absent present” (Darici 2015:32) noem. Wesenlik vra ons: Wat sien jy wanneer jy nie sien nie? En ook: Wat sien jy wat nié op die kaart is nie?

2.2 Literêre kartografie

Wat is literêre kartografie? In die VSA is dit veral Tally wat geokritiek sien as ’n kritiese praktyk wat geskik is vir wat hy “literary cartography” noem. Deur geografiese vrae aan literêre tekste en literêre vrae aan geografiese verteenwoordigings te stel, word natuur- en menswetenskappe op ’n kreatiewe manier byeengebring en klem op die persoonlike en fenomenologiese aspekte van geografie en wetenskap gelê.

Wat is ’n definisie van literêre kartering; hoe lyk die praktyke en op watter wyse kan dit toegepas word op ’n literêre teks?

Oor literêre kartografie sê Schilling (2014:215) die volgende:

The cartographic élan on display in the new literary geography responds to the twofold wish to formulate “objective”, verifiable knowledge by anchoring the coordinates of fiction to the geohistorical world of reference, variously known as the “zero-world”, “geospace,” or “actuality”, and to acknowledge the formative capacity of literary representations to augment, correct or supplant that world.

Literêre kartografie kan per definisie gesien word as ’n aantal kartografiese tegnieke wat toegepas word op ’n teks waardeur die teks onderwerp word aan ’n kritiese herwaardering sodat die grafiese potensiaal groter fokus ontvang, hetsy deur diagramme of ander nieverbale materiaal wat nuwe diskoers oor die spesifieke plek van die teks tot gevolg het. Hierdie praktyk is veral waar van prosatekste, maar gedigte behoort nie hiervan uitgesluit te word nie. Dit kom dus daarop neer dat kartografiese praktyke dit ten doel het om ’n objektiewe, verifieerbare aktualiteit as anker daar te stel, terwyl dit die formatiewe kapasiteit van die literêre voorstelling erken.

Elke kaart maak gebruik van ’n betekenisdraende sisteem om die posisie van iets of iemand in verhouding met iets anders op te spoor of vas te lê. ’n Kaart impliseer ook afstand tussen die objek van die kaart en die kyker. In aansluiting hierby wys Turchi (2007) daarop dat ons inligting organiseer met die doel om ons kennis op ’n nuwe manier te sien. Die gevolg hiervan is dat kaarte verduidelikings suggereer; en hoewel verduidelikings ons gerusstel, inspireer hulle ons ook om meer vrae te vra en ander moontlikhede te ondersoek (Turchi 2007:11). Hoewel Trauvitch (2014:199) praat van ’n kaart as ’n replika en ’n verteenwoordigende kopie van plek, en Pyke (2014:141) kaarte voorhou as “habits of seeing”, stem ek eerder saam met Hones (2011:686) wat daarop wys dat die teks nie gesien moet word as ’n direkte voorstelling van geografie nie, maar as ’n geografiese gebeurtenis in sigself. Elke keer as die teks “gebeur”, word die ruimtelike instellings hersitueer en gebeurlikheidsplanne word uitgeoefen in 'n web van ruimtelik-temporale interaksies tussen skrywers, lesers, objekte en plekke.

Dit bring ons by die hóé van kartering. Kartering in literêre tekste geskied op etlike wyses. Eerstens verwys dit natuurlik na die fisiese teenwoordigheid van kaarte in veral prosatekste waarop skrywers hulle beroep om lesers te help om hulself te oriënteer en ’n plek in die teks te visualiseer, hetsy werklikewêreld- of niewerklikewêreldplekke. Hierdie kaarte as betekenisdraende sisteme kan die vorm aanneem van fisiese kaarte, diagramme of enige verdere nieverbale buitetekstuele gegewe wat bydra tot die betekenisgewing van die plek in die teks. Wanneer hierdie kaarte en gegewe ooreenstem met verifieerbare werklikewêreld-raakpunte of -koppelvlakke, dien die koppelvlakke as ankers om die teks te begrond en word daar in Soja (1996:62) se terme van ’n eersteruimteplek gepraat. Waar die kaart afwyk van die werklikewêreldplek of in geheel ’n fiktiewe wêreld daarstel in ooreenstemming met die teks, het ons te make met die formatiewe kapasiteit van die teks, en so ’n fiktiewe teks kan gesien word as ’n tweederuimteplek (Soja 1996:65). Die oorvleueling van werklikewêreldplek met niewerklikewêreldplek, en dus die tot stand bring van ’n derderuimteplek (Soja 1996:65–7) van reële-en-verbeelde plek, word bewerkstellig deur elemente van materiële verbeelding, waaronder dubbelvisie, plek van onthou of geheueplek en nagelate waarde, wat hier onder breedvoeriger aandag sal kry. Soja (1996:67) verklaar dat derderuimteplek die plek is “in which everything comes together … subjectivity and objectivity, the abstract and the concrete, the real and the imagined, the knowable and the unimaginable, the repetitive and the differential, structure and agency, mind and body, consciousness and the unconscious, the disciplined and the transdisciplinary, everyday life and unending history”.

Koppelvlakke tussen fiktiewe voorstelling en werklikewêreldplekke is uiteenlopend. Dit sluit ’n breë spektrum van plek in vanaf homotopiese verteenwoordigings van plek, waarin die plek versoenbaar is met wat ons van die plek weet, tot heterotopiese verteenwoordigings, wat eksplisiete afwykings van die feite toon en erkenning gee aan die belangrikheid van suiwer fiksioneel-geskepte plekke (Prieto 2012). Die verifieerbare kennis van plek anker die teks aan die geohistoriese verwysings van ’n bepaalde plek. Die literêre voorstelling versterk die verwysings, voeg inligting by of verdring selfs in sommige gevalle die inligting en is die vormgewende vermoë van die teks.

Literêre kartering behels dus veel meer as net fisiese kaarte in tekste. Kartering in/van ’n teks kan ook bestempel word as daardie taal- en narratiewe elemente in die teks wat ruimtelike en plekspesifieke aanwysings verskaf en wat omgewing in die geestesoog van die leser skep. Pike (2014:141) maak die stelling dat taal ’n kartering en kartering taal is, wat dui op die wisselwerking tussen die twee. In die projek en gekose gedigte onder bespreking gaan dit nie oor een enkele teks wat plek beskryf nie, maar oor meer as een teks wat dieselfde plek beskryf waardeur die multifokale, gelaagde visie van die plek bewerkstellig word, wat bydra tot die grensloosheid van veelvuldige geleefde ondervindinge van daardie plek. Kartering is dus nie beperk tot eersteruimte- of tweederuimteplek nie, maar dra veral betekenis en funksioneer binne die konteks van die derderuimteplek, wat meer is as die verteenwoordigende kennis en die akkuraatheid en objektiwiteit van die kartografie.

 

3. Materiële verbeelding as karteringstrategie

Om die wêreld as ’n multidimensionele sisteem van streke en plekke te verstaan, vra om verbeelding. Ridanpää (2017:187) maak die volgende stelling:

Imagination does not refer to fictitiousness, to something which in material terms is non-existent, but instead to an idea that humans are simply unable to understand spatial layers and their connections to society and the environment without imagination.

Dubbelvisie veronderstel in die woorde van Tsay (2014:57) ’n blik wat die onderliggende plekke van geheue blootlê en vir beide die digter en die leser aktiveer, ’n verbeelde en affektiewe realiteit. Deur middel van ’n verlede-blik, ’n dubbele teenwoordigheid op dieselfde plek, word beide verlede en hede geaktiveer en ’n dubbele lading emotiewe waarde aan die plek geheg, wat op sy beurt weer bydra tot plekgehegtheid. Die beliggaming van en ingeplaastheid binne die plek is werklik; die kartering oorspan verteenwoordigende kennis.

Verwant aan dubbelvisie is wat Nora (1998:xv–xvi) “the place of memory” noem, die geheueplek waar die fiksionele bo-oor die reële en die persoonlike bo-oor die geografiese gestel word. Nora praat van “le lieu de mémoire veral met betrekking tot monumentale plekke, plekke van kollektiewe geheue, landmerke en terreine van geheue wat bedoel is om die verlede en die hede met mekaar te verbind, waar die “residual sense of continuity remains” (Tsay 2014:51), ’n praktyk wat die leser se rol en die toepassing van bepaalde leserspraktyke impliseer. Wanneer die woord onthou in ’n teks voorkom of geïmpliseer word, ontsluit dit die nagelate waarde of reswaarde (“residual value”) en nagelate kontinuïteit (“residual continuity”), want geheue is dikwels gewortel in die konkrete, in plek, gebare, beelde en objekte. Selfs individue kan terreine van geheue wees. Die rol van die leser en sy referensiële kennis en subjektiewe, ervaarde geheue is dus net soveel deel van die literêre kartering as dié van die skrywer, wat al hierdie aspekte in sy kartering van plek aktiveer. Bepaalde leespraktyke kan deur die skrywer geaktiveer of ondermyn word, na gelang van die bedoelde plek van geheue wat die skrywer wil skep – in sommige gevalle nie ’n onderdompeling van die leser in die geskepte wêreld nie, maar ’n versterking van die een waarin die leser self reeds is.

Plekbeskrywing in literêre tekste kan dus gesien word nie net as afleidings van werklikewêreldplekke nie, maar as performatiewe aksies deur die skrywer. Hierdie plekbeskrywings beskik oor die vermoë om verandering in die ervaring van die leser se plekpersepsie mee te bring. Verandering kan ook destabilisering beteken, waardeur ’n dialektiese verwantskap tussen tekste en die werklikewêreldplekke wat hulle verteenwoordig, tot stand kom as gevolg van die voortdurend veranderende betekenis van plek en die vlakke van onstabiliteit wat daarmee gepaard gaan – ’n eienskap wat wesenlik postmodern van aard is (Tally 2016:20 en Goddard 2014:32).

Verbeelde omgewing of verbeelde plek, en daarmee saam die tasbaarheid van materiële verbeelding, wat deur kartering tot stand gebring word, is dus eweneens die plekke wat deur die skrywer of digter besoek word en kan deur middel van ’n verskeidenheid toegangspunte geskied. Hierdie toegangspunte kan wees deur middel van foto’s, deur videomateriaal, deur digitale bronne, deur navorsing, deur drome, deur visualiserings, dus, deur materiële verbeelding of verbeelde geografie. Behorende tot hierdie toegangspunte is ook die sogenaamde derde natuur (Wark 1994:115) van mediageproduseerde virtuele werklikhede wat die kyker/verbruiker toegang tot die virtuele ruimte gee.

Hoewel die verbeler dus nie noodwendig fisies op ’n gegewe plek was nie, kan dit in sommige gevalle gebeur dat die intensiteit van die verbeelde plek kwalik daardeur verminder word, aldus Buell (2005:73). Die intensiteit van die verbeelde plek hang saam met vorige plekervaringe en plekgehegthede waardeur ’n sin van plek as ’n reeks plekervaringe of palimpseste optree waarin nie net soortgelyke nie, maar teenstellende plekke in gesprek met mekaar tree deur materiële verbeelding.

Buell maak ’n belangrike uitspraak oor die geldigheid van materiële verbeelding wat deur plekgehegtheid en ’n sin van plek tot stand kom, maar meer insluit as fisiese teenwoordigheid in die plek. Hy sê: “[O]ne also becomes attached to places by the power of imaging alone […] [T]he places that haunt one’s dreams and to some extent define one’s character can range from versions of actual places to the utterly fictitious” (2005:72, 73).

Die gebruik van materiële verbeelding is nie net tot die skrywer van die teks beperk nie, maar sluit ook die leser in as deel van die realiseringsproses van die teks. Buell (2005:62) wys op hoe verbeelde plek en omgewingsverbeelding die onafwendbare prosesse van selfbewuste en voortdurend verskuiwende verhoudings tussen wees en fisiese konteks registreer, beoordeel en bewerkstellig.

Materiële verbeelding kan eweneens nie losgemaak word van ingeplaastheid en die sin van plek nie. Wat is die verbintenis tussen plekbewussyn, plekgeheue en plekgehegtheid? Wat is die kenmerke en gevolge van plekgehegtheid? Word plekgehegtheid tot stand gebring uitsluitlik deur liggaamlike kontak en oor ’n lang tyd, of sou dit ook kon spruit uit belangstelling, korter besoeke aan bepaalde plekke en nagevorste, intellektuele betrokkenheid by ’n spesifieke plek?

 

4. Ingeplaastheid, plekgehegtheid en die sin van plek

Een van die sentrale raamwerke waarbinne die Tuinverseprojek funksioneer, is dié van ingeplaastheid en die plekspesifieke ervaring. Vir die doel van hierdie artikel word daar dus op ingeplaaste skryf gefokus, terwyl in gedagte gehou moet word dat die ingeplaastheid van die leser en die leesprosesse onlosmaaklik verweef is met die ingeplaastheid van die teks. In ’n vorige artikel (Smith 2012:902) word ingeplaastheid gedefinieer binne die raamwerk van die fisiese materialiteit van plek wat ’n sensoriese, emotiewe en intellektuele bewussyn van die digter verg, ’n sogenaamde binne-die-liggaam ervaring. Dit vra uitdruklik vir ’n bepaalde plekverbondenheid en plekgehegtheid van die digter.

Eweneens is dit ook van waarde om aandag te skenk aan die kategorie van behoort wat ter sprake kom en hiermee gepaardgaande dan ook aspekte van bioregionaliteit: Wie het die natuurlike reg (Williams en Smith 1983:509) op ’n plek; hoe en deur wie word bepaal wie tuis hoort al dan nie? Voortdurend verskuiwende fisiese kontak met ’n omgewing of plek of biostreek is ’n werklikheid van die hedendaagse mens se bestaan – ons is immers as mense nomadies van aard, algaande al hoe meer. Ons is voortdurend in fisiese kontak met verskillende materiële omgewings of plekke van uitkringende grootte en wisselende gehegthede, met ons vaste woonplek as sentrum. Die eerste, of meestal permanente plek leer ons in besonderheid ken en vorm ’n verbintenis daarmee wat op talle vlakke funksioneer. Dit kan variërende aspekte insluit soos ’n intieme kennis van die plek (histories, geografies, sosiaal, kultureel, biologies en geologies), ’n bewussyn van veiligheid of onveiligheid, ’n bewussyn van skoonheid of die gebrek aan skoonheid, betrokkenheid of onbetrokkenheid by die plek en die impak van die plek op die gesondheid en lewenskwaliteit van die self.

Op ’n tweede vlak is ons ook verbonde aan uitkringende biostreke en materiële omgewings waarheen ons van tyd tot tyd terugkeer en waar ons ’n bepaalde hoeveelheid tyd deurbring. So ’n bestemming kan die vorm aanneem van ’n reis- of vakansiebestemming, ’n ruimte waarin ons ons kinderjare deurgebring het, of waar ons vir ’n lang tyd gewoon het. Hierdie ruimtes bevat ’n gelade emotiewe waarde, hetsy positief of negatief, afhangende van die ervarings wat ons binne daardie ruimte beleef het. Ons herhaalde besoeke bevestig ons verbintenis met die plek.

Benewens ons persoonlike verbintenis met werklikewêreldplekke en die emotiewe geladenheid daarvan as fisiese bestemmings, moet ons egter ook in gedagte hou dat plekke self met verloop van tyd verander. Plek is dikwels ook onderhewig aan ’n proses. Veranderinge vind plaas, hetsy ten goede of kwade, en ’n begrip van plek veronderstel ook kennis van die geskiedenis van ’n bepaalde plek. Daar moet ook aan plek gedink word as ’n terrein van sosiale produksie, en so ’n siening laat toe dat ons plek nie net gewoon as naamwoord sien nie, maar as naamwoord wat in dié geval aksie uitdruk. Dit bring ons netjies terug by die oorspronklike betekenis van ekopoësie as die Griekse oikos (huis of blyplek) en die werkwoord poeisis (om te maak), in Skinner (2001:5) se woorde, “a house making”. Die implikasie is dat ekologiese én kulturele verbintenisse in die skepping van plek meewerk – ’n selfbewuste, wyer wordende kring van terreine wat ’n gelaagde dubbelbewussyn van plek tot gevolg het.

Uit bostaande is dit duidelik dat ingeplaastheid en plekgehegtheid dus ’n baie spesifieke sin van plek veronderstel. Die begrip sin van plek is van Romeinse oorsprong, naamlik genius loci (“spirit of place”), wat dui op die beskermgod of gees van ’n bepaalde plek. Dit het dus ’n spirituele assosiasie tot gevolg as plek van ontmoeting met die goddelikheid of die bomenslike. Dit is belangrik om daarop te wys dat die dubbelbetekenis van sin beide persepsie en konsepsie, beide liggaamlike en kognitiewe betrokkenheid by plek veronderstel, wat eweneens sintuiglike waarneming insluit. Alexander (2017:39) sê byvoorbeeld dat sensoriese persepsies fundamenteel is tot enige geografiese bewussyn. Sin van plek impliseer dus beide fisies-sensoriese nabyheid en verstandelike afstand en beide onderdompeling en loslating. Die rol van al vyf sintuie in die skepping van ’n sin van plek vra om akute aandag en aktiewe deelname, en is verwant aan hoe onlangse navorsing in kultuurgeografie die agentskap van materie ondersoek (Alexander 2017:43). Dit is meer waarskynlik dat eietydse kultuurgeograwe multisensoriese ontmoetings op die voorgrond sal stel as wat die geval is met humanistiese geograwe wat die fokus steeds slegs op die agentskap van die menslike subjek plaas wat plek as ’n voorafbestaande objek sien. In die mees onlangse navorsing word die onderskeid tussen persoon en plek, en tussen self en landskap opgehef vir ’n vloeibaarheid van bewegings, verhoudings en wordings. Die klem is egter nie soseer op gevoel en sensasie nie, maar eerder op affek en waarnemingsinhoud.

Thus, an affect denotes the shifting mood, tenor, colour or intensity of places and situations, whilst a percept is a style of visibility, of being-visible, a configuration of light and matter that exceeds, enters into, and ranges over the perceptions of a subject who sees. (Wylie 2005:236)

Alexander (2017:43) meen dat binne laasgenoemde werkwyse, ’n sin van plek nóg subjektief, nóg die eiendom van ’n objek is, maar iets wat tussen die twee sirkuleer en ’n sleutelrol in die skepping van selwe en plekke speel.

Die wyse waarop hierdie geografiese multisintuiglikheid, oorgeneem van die dissipline van kultuurgeografie, toepasbaar is in die ondersoek na ’n sin van plek, is van waarde vir literêre kartografie en ekokritiek. Dit bring alternatiewe leesstrategieë vir literêre ontleding tot stand wat volgens Prieto (2017:61) ook deur onlangse ontwikkeling in die digitale menswetenskappe ondersteun word. Dit hou ook verband met die fokusverandering vanaf ruimte na plek. Waar eersgenoemde geassosieer is met neutraliteit, objektiwiteit en universaliteit, word plek geassosieer met intimiteit, onmiddellikheid en selfs die feilbaarheid van subjektiewe ondervinding. Die onderskeid tussen ruimte en plek is reeds in ’n vorige artikel ondersoek (Smith 2012:896–7): “Ruimte […] is ’n abstraksie wat uitgedruk kan word as behoefte of konsep, terwyl plek ’n spesifieke materiële ruimtelike lokaliteit is. Jy kan daar arriveer of terugkeer daarheen en jy kan dit fotografies en selfs klankmatig vaslê.” Plek is gegrond op reële tyd, en anders as ruimte, gerig op subjektiewe ondervinding wat uitwaarts gerig is na die tasbare wêreld, maar ook inwaarts na die persepsies wat deur interaksie tot stand kom. In die inleiding tot Geocriticism: Real and fictional spaces skryf Westphal (2011:x) die volgende oor hierdie ervaringsaspek: “Our understanding of a particular place is determined by our personal experiences with it, but also by our reading about others’ experiences, by our point of view, including our biases and our wishful thinking.”

Dit gaan dus nie net oor ons eie ervaring nie, maar ook ons ervaring van iemand anders se ervaring, vooroordele en wense.

Teen die voorgaande agtergrond van geokritiek en die literêre kartering van plek is die Tuinverseprojek ’n uitstaande voorbeeld in die Afrikaanse literêre landskap van multifokalisering op ’n spesifieke plek en die materiële dinge in hierdie plek. Die tekste is terreinspesifieke gedigte waarin verskeie digters op dieselfde terrein fokus en die gedigte as polifoniese kartering van die plek dien. Daardeur word ook die materiële en referensiële geheue van die lesers geaktiveer. Die keuse van twee gedigte vir hierdie navorsing dien as ’n vertrekpunt vir literatuur-kartografiese ondersoek wat hopelik vorentoe wyer getrek sal word om meer gedigte in te sluit.

 

5. Tuinverseprojek by die NWU Botaniese Tuin, Potchefstroom as geokritiese plekspesifieke projek

Die Byderhand Tuinverseprojek (2015) vorm deel van ’n groter projek wat deur die Vakgroep: Skryfkuns by Noordwes-Universiteit onder leiding van Franci Greyling geïnisieer is. Benewens die hoofnavorsingspan en inisieerders is navorsers van buite die Skryfkunsvakgroep wat belang het by plekgesentreerde en ingeplaaste skryf ook genader om tot navorsingsuitsette by te dra.

Die Byderhandprojek is sedertdien ook met groot sukses uitgevoer of aangebied op verskeie ander plekke in Suid-Afrika, waaronder die Tuin van Digters in Wellington, die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin in Worcester en die Pionierskool vir Gesiggestremdes in Worcester. Op internasionale vlak is die projek aangebied by die Bath Spa University College for Liberal Arts in Brittanje, die University of Victoria in Kanada en die Fernando Pessoa University in Porto, Portugal. Die projek 

skep ’n eksperimentele ruimte vir skep, skryf en lees in nuwe kontekste. Die doelstellings van dié eksperimentele ruimte is om digitale literatuur deur middel van praktykgebaseerde navorsing en vanuit verskeie invalshoeke te ondersoek. Die projekfokus val tans op plekspesifieke digitale literatuur. (Byderhand Tuinverseprojek 2015)

Figuur 1 verteenwoordig die terrein van die Tuinverseprojek is die NWU Botaniese Tuin in Potchefstroom. Vyftien digters het deelgeneem deur gedigte te skryf wat plekspesifiek en plekgesentreerd was. Lesers word meelewend betrek deur digitale toegang tot die gedigte via hul selfone en die QR-kodes wat op die verskillende gedigplekke aangebring is. Lesers/wandelaars word van ’n fisiese kaart voorsien waarop die gedigplekke aangedui is.

Figuur1. Kaart van gedigplekke by die Botaniese Tuin (Bron: Byderhand Tuinsverseprojek 2015)

Die gebruik van QR-kodes kan vervolgens ook gesien word as ’n vorm van digitale kartering van plek en van die tekste waardeur digitale media soos selfone, oudio- en videotekste en digitale toepassings aangewend word om die “kaart” van die gedig, en dus van die plek te lees. Die multisensoriese aard van die inligting wat deur die QR-kodes geaktiveer word, dra by tot ’n gedifferensieerde ervaring deur die leser. Die geaktiveerde inligting, wat buitetekstueel is, sluit klankbane in van die digters wat hul gedigte voorlees, vertalings en voorlesings in verskeie tale, waaronder Afrika- en Europese tale, musikale verwerkings deur verskeie kunstenaars en musiekinstrumente, visuele rekenaarmanipulasie en grafika, en kunswerke van die plek(ke) van die onderskeie gedigte.

Daarbenewens dra die landkuns van Strijdom van der Merwe, die totempale wat uniek tot elke gedig is, ook by tot die multisensoriese interaksie. Omgewingsbewustheid word in die leser wat deur die tuin loop en fisies van plek tot plek beweeg, bewerkstellig deur die persoonlike ervaring van plek. Uiteindelik vind plaas wat Prieto (2012:5) die performatiewe potensiaal van literêre verteenwoordiging van plek noem – die vermoë van (eko- en geokritiese) poësie om die sosiale produksie van plek te moduleer/verbuig (“inflect”) wat die wyse waarop ons die wêreld bewoon en beleef, vorm.

Dit bring ons by die twee tersaaklike gedigte.

5.1 Materiële verbeelding in die gekose gedigte

“By die soetdoring” is vir hierdie navorsing gekies op grond van my betrokkenheid by die skeppingsproses daarvan, terwyl “Onder die soetdoring” van Hein Viljoen gekies is op grond van die ooreenstemming in die titels en onderwerpfokus, en dan natuurlik weens die ooreenstemming in geografiese plek, naamlik die NWU Botaniese Tuin. Ek wou as digter-navorser uitvind hoe die uitkomste van die twee gedigte beïnvloed is deur ingeplaastheid, plekgehegtheid en materiële verbeelding. Daar moet ook gemeld word dat die digters nie bewus was van mekaar se gelyknamige gedig tydens die skryfproses nie en dat al die gedigte vir die eerste keer tydens die Aardklopfees (2015) onthul is. Daar kan aanvaar word dat die referensiële kennis van die plek verskil as gevolg van faktore soos die tyd wat die digters daar deurgebring het, gedurende watter historiese tydlyn in die geskiedenis van die plek hulle daar was, die eerstehandse belewenis van mylpale in die historiese tydlyn van die plek en talle persoonlike en plekspesifieke variante en verbintenisse.

Wat is die gemene delers tussen die twee gedigte? Wat kan afgelei word uit die onderskeie werkwyses en kreatiewe prosesse wat deur die digters gevolg is? Hoe geslaagd is die gedigte, gemeet aan ingeplaastheid en plekspesifisiteit? Tot watter mate speel materiële verbeelding ’n rol in die gedigte? En hoe dra die twee tekste by tot die literêre kartografie van die spesifieke plek? In die geval van Viljoen is die digter ten tye van die skryf van die gedig woonagtig in Potchefstroom, waardeur jarelange fisiese verbintenisse met die omgewing in breë konteks en die Botaniese Tuin as spesifieke plek veronderstel word. Ek, daarenteen, woon elders in die land en het nie ten tye van die kreatiewe fase van die projek geredelik of deurlopend toegang tot die omgewing gehad nie.

Die voorgaande geïdentifiseerde eienskappe van materiële verbeelding, naamlik dubbelvisie, die aktivering van geheueplek en nagelate waarde, kom ter sprake by die vraag oor die aanwending en uitdrukking van materiële verbeelding in die gekose gedigte. Daar is as uitgangspunt die vraag gevra oor die rol van materiële verbeelding in die kartering van die derde ruimte – dus, die ruimte waarin beide die werklikewêreldplek en die fiktiewe plek op ’n gelaagde wyse by mekaar uitkom. Soos reeds aangedui, blyk die prosesse van kartering wat in die twee gedigte aangewend word, uiteenlopend te wees. “Onder die soetdoring” bly grootliks getrou aan die materiële werklikewêreldplek van die gedig en gebruik ’n groot aantal ankers wat die gedig op die reële plek anker, en die teks dus grootliks ’n eersteruimteplek maak. Daar is egter wel subtiele voorbeelde van hoe die digter gebruik maak van dubbelvisie en van plek van geheue, deurdat sy hede-blik ’n verlede-blik in die teks word, wat dui op ’n nagelate geheue wat in die hede van die leser geaktiveer word, byvoorbeeld, “blom die enkele strelitzia nog?”. ’n Dubbelvisie word tot stand gebring, naamlik wat deur die digter gesien word, wat hy deur verbeelding sien of sien verdwyn, en wat die materiële ervaring van die leser op die hedemoment van lees is. Die digter voorsien deur middel van materiële verbeelding ’n veranderde plek. Daarbenewens moet in gedagte gehou word dat ons van veelvuldige lesers praat waardeur veelvuldige hedemomente tot stand kom wat ook weer geringe (of groter) materiële verskille veronderstel. Hierdie wegbreek van die hedemoment na die verlede bevestig ook die gelaagde blik op plek.

Die wyse waarop plekkartering in “By die soetdoring” plaasvind, verskil, soos reeds aangedui, grootliks van Viljoen se gedig “Onder die soetdoring” veral omdat die verbeelding reeds intree as voorwaarde by die skepping van die gedig. Binne die konteks van die praktykgerigte aard van die projek, het ek, die navorser-digter, voor ’n aantal vraagstukke te staan gekom:

  1. Op watter wyse kan ingeplaastheid bewerkstellig word as die digter nie ten tye van die skryf op die werklikewêreldplek teenwoordig is nie?
  2. Wat is die verhouding, indien enige, tussen die ingeplaastheid/skryf en materiële verbeelding en hoe gaan die digter te werk om dit te benut?
  3. Hoe word materiële verbeelding geaktiveer?
  4. Wat is die verhouding tussen die plek van materiële verbeelding en die werklikewêreldplek?
  5. Watter rol kan digitale hulpmiddele speel om die ervaring van ingeplaastheid uit die perspektief van die digter nie net in die eindproduk nie, maar ook ten tye van die skeppingsproses te bewerkstellig?

Die volgende maatreëls is getref en/of hulpmiddele is ingespan in die skeppingsproses om groter ingeplaastheid te bewerkstellig en uiteindelik materiële verbeelding te aktiveer. Dit stem ooreen met wat deur Gladwin (2016:38) beskryf word as “overlapping themes of human experience, memory, […] photography, assemblages, video and in situ […] walks”. Hierdie metodes kan dus gesien word as middele om materiële verbeelding aan te wend in die tot stand bring van die gedig. Die hulpmiddele kan bestempel word as snellers waardeur betrokke verbeelde inligting bekom word. Die term sneller kom uit die sielkunde en oudiotegnologie. In traumasielkunde word ’n sneller gesien as ’n terugflits wat ’n bepaalde sensasie veroorsaak waar herroepte tonele werklik en asof ervaar voorkom (Piatti 2017:182). Stimuli in die vorm van klanke, smaaksensasies en visuele indrukke kan as snellers optree. Snellers is dus ook grootliks afgestem op sensoriese persepsies, wat aansluiting vind by Tally (2011:xiv) en Westphal (2011:xiv) se polisensoriese kerneienskappe van ’n geokritiese benadering.

Die snellers in die “By die soetdoring” was:

  1. Bestudering van foto’s
  2. ’n Video met klankbaan wat aangevra is van die staproete na die soetdoringsitplek, spesifiek met nabyskote van die grond, lug, die stam en die omringende plantegroei en omgewing
  3. Navorsing oor die plant- en voëlspesies van die NWU Botaniese Tuin
  4. Navorsing oor die soetdoring (Acacia Karroo), die struktuur van die blare (dubbelgeveer) en bloeiwyse en algemene kenmerke
  5. Materiële geheue. ’n Konneksie is gemaak met die fisiese materialiteit van ander soetdoringbome waarmee ek goed vertroud is (en foto’s wat ek daarvan geneem het as verwysing); die geheue as bron is ontgin ten opsigte van kinderjare se verblyf op die hoëveld.

Materiële verbeelding word dus geaktiveer – ’n kombinasie van bogenoemde elemente waardeur ek as digter “toegang” tot ’n visuele en materiële beeld van die plek verkry en wat as snellers vir die aktivering van die derderuimteplek dien. Deur gebruik te maak van materiële geheue en materiële verbeelding, word projeksies van ’n plek gemaak, wat dus ook ’n geprojekteerde plek genoem kan word. Geprojekteerde plek kom grootliks ooreen met derderuimteplek as gelaagde plek wat werklikewêreld- en fiktiewewêreldplek insluit, dus beide eersteruimte- en tweederuimteplek. Piatti (2017:184) lewer ’n belangrike bydrae tot die onderwerp van geprojekteerde plek deur haar “theory of projected spaces”. Sy stel ses vrae vir hierdie teorie. Ter uitbreiding van die kartering van ruimte deur materiële verbeelding, is dit van waarde om kortliks ook na Piatti se begrip geprojekteerde plek te kyk. Die vrae wat Piatti stel wat hier van toepassing kan wees, is:

  1. Wat dien as snellers vir die geprojekteerde plek (bv ’n kaart, ’n foto, ’n objek, ’n ander plek, ’n persoon, ’n woord, ’n teks, ens.)?
  1. Is die geprojekteerde plek toeganklik of is dit suiwer verbeelding, ’n ongelokaliseerde plek?

Verdere vrae wat Piatti (2017:184) stel, wat nie noodwendig hier van toepassing is nie, maar wat van waarde kan wees vir verbeelde, geprojekteerde plekke, is:

  1. Hoe is die geprojekteerde plek agtergelaat, wat ontbind dit (die teenoorgestelde van die snellermoment)?
  2. Is die oorgang van die werklikewêreldplek na die geprojekteerde plek ’n doelbewuste proses of ’n onbewuste een?
  3. Modus- en funksieverandering: Word die geprojekteerde plek ’n tekstuele ruimte of was dit reeds tevore een?
  4. Is daar enige geldige reëls van die geprojekteerde plek: Geld dieselfde reëls as in ’n tekstuele ruimte of funksioneer dit deur middel van ander reëls (d.w.s. is die algemene reëls van ons fisiese wêreld steeds geldig, of kan karakters byvoorbeeld deur mure en dakke beweeg)? (Piatti 2017:184)

“By die soetdoring” vertoon tekens van materiële geheue deurdat dit uit die staanspoor die geheue betrek. Eerstens word dubbelvisie bewerkstellig deurdat meer as een plek (soetdoringboom) van geheue blootgelê word wat gekoppel word aan die plekspesifieke soetdoringboom. Deur gebruik te maak van die snellers soos foto’s, video’s en navorsing word die geheue van soortgelyke plekke (soetdoringruimtes) geaktiveer, wat ’n gelaagde, multifokale blik tot stand bring waarin nagelate of resgeheue ’n groot rol speel, byvoorbeeld die voorkoms van die stam:

haar bruin romp is met roes brokaat ingebrand.

Die aanwesigheid van blomme en blare hou direk verband met die seisoene:

en lente reis sy weer met sonpomponne in ’n soet geknoopte wentelbaan
óm die dubbelgeveerde blare vlaamse kant

Later in die gedig word die seisoene se kom en gaan verder betrek:

in ’n somerdeurspoelde ligvermeerdering
tot herfs, tot winter, met witter dorings en blaarverweer.

Net soos die verwysing na die teenwoordigheid of afwesigheid van ’n “enkele strelitzia” in “Onder die soetdoring” is die verwysings na seisoene in hierdie gedig tydruimtelik van aard, wat dui op die nagelate of reswaarde van dit wat tevore deur die digter ervaar is, wat materieel deel was van die plek en van ooreenstemmende geheueplekke. Die beskrywing van die blare en blomme, of die afwesigheid daarvan, berus op geheue, wat in die teks geprojekteer word. Daar vind dus ’n nagelate kontinuïteit plaas deur middel van reste van beelde en objekte van nie net die een plek nie, maar van veelvuldige soortgelyke plekke wat ’n materiële verbintenis met die eerste reële plek vorm, en onderliggend voortduur.

In beide gedigte skep die geheueperspektief ’n dubbelvisie op die gedig, wat meer bydra tot die waarnemingsinhoud (Wylie 2005:236) van die plek as wat met die eerste fisiese blik gesien word. Die rol van die leser se referensiële kennis van die plek self, of van soortgelyke plekke, bring ’n leespraktyk mee waardeur die ervaarde geheue van die leser of veelvuldige lesers geaktiveer word. Die aktiewe benutting van snellers vir die tot stand bring van materiële geheue in veral “By die soetdoring” is dus direk betrokke by die skep van sin van plek, ingeplaastheid en plekgehegtheid, terwyl ingeplaastheid en sin van plek by “Onder die soetdoring” voortspruit uit fisiese teenwoordigheid. Dit is dus duidelik dat die dubbelvisie op die gedig nie net op voorstelling van plek dui nie, maar ook op persepsie van plek, in die woorde van Westphal (2011:6). Die soetdoringboom as plek binne die reële ruimte van die botaniese tuin word ’n gelaagde, hibriede, multisensoriese plek waar die twee (en meer) tekste wat daar is, ’n ruimtelike argief van die gegewe plek word.

5.2 Ingeplaastheid en plekgehegtheid in die gekose gedigte

Ingeplaastheid, plekgehegtheid en sin van plek is aspekte van ’n literêrekarteringsondersoek wat in ’n komplekse, verweefde geheel in die tekste voorkom en derhalwe moeilik van mekaar losgewikkel word. Net soos materiële verbeelding is ingeplaastheid en plekgehegtheid onlosmaaklik deel van die sin van plek. In die bespreking wat volg, is daar besluit om nie elke gedig afsonderlik te behandel nie, en ook nie elke individuele aspek van literêre kartering te isoleer nie, juis vanweë die verweefde aard van plek en plekeienskappe.

Viljoen se gedig “Onder die soetdoring” vertoon die kenmerke van ’n baie intense blik op die fisiese, onmiddellike ruimte rondom die tuinbankie onder ’n soetdoringboom in die Botaniese Tuin in Potchefstroom. Nabye materiële elemente, soos die plakkieplant, die klip, die katstert links van die bankie, die groot kanferboom en olienhout, en selfs die bye en muskiete word regstreeks in die teks betrek, waardeur ’n onmiddellikheid bewerkstellig word. Hierdeur word nie net die effek of werkwyse van ingeplaaste skryf betrek nie, maar veral ook die ingeplaaste lees en die ingeplaaste leser – begrippe wat alreeds tevore kortliks in navorsingsartikels aangeraak is (bv. Smith 2012:887). Die gedig is sterk afgestem op die ideale leser met die veronderstelling dat die leser aan bepaalde voorwaardes sal voldoen, hoofsaaklik deur sy of haar fisiese teenwoordigheid en ingeplaastheid in dieselfde ruimte as die een waaroor die digter dig. Daar word ’n spel met die leser aangeknoop om hom of haar aan te por tot deelname, wat dus ’n performatiewe aksie is deur middel van gedeelde ervaring en ingeplaaste lees.

Deur middel van onder andere “oop” moontlikhede vir die leser, byvoorbeeld om man of vrou te wees (gepaardgaande met alternatiewe tekste), tree die digter op ’n baie direkte wyse in gesprek met die leser oor die fisiese, materiële dinge, byvoorbeeld die harde bankie (die effek daarvan op die lyf, dalk van digter én leser), die son en die hitte. Hierdie spel-element verhoog die gevoel van meelewing, gemoedelikheid en assosiasie tussen die digter en die leser. Die fokus op fisiese materialiteit dwing die leser tot sintuiglike waarnemings van “voel” en “hoor” en “kyk”. Die gedig is deurspek met opdragwoorde waardeur die perlokutiewe modaliteit aangewend word en die leser tot perlokutiewe aandag en veral tot aksie aangespoor word. Daar word herhaaldelik in hierdie gedig gevra of opdrag gegee: “hoor jy”, “voel jy”, “laat jou oog gly”, “let op”, “sit doodstil”, “wag”, “luister mooi”. ’n Beklemtoning van sintuiglike waarnemings word, soos reeds aangedui, deur Alexander (2017:39) gesien as fundamenteel tot die geografiese bewussyn en dus uiteindelik tot die sin van plek. Die sensoriese fokus sluit daarbenewens by sowel Tally (2011:xiv) se “sintuiglikheid van waarnemings” as Westphal (2011:xi) se “polisensoriteit” as geokritiese merkers aan.

Die feite in die gedig van Viljoen is verifieerbaar en objektief – die bankie se tekstuur, die plakkieplant, die water, die salie. Daar vind dus duidelik referensiële en representatiewe kartering plaas wat as ankers dien en die koppelvlakke tussen die werklikewêreldplek en die teks is. Die geleefde ervaring van sowel die digter as die lesende leefervaring van die leser skep veelvuldige geleefde ondervindinge van die spesifieke plek, ervaringe wat ooreenstem met mekaar, maar wat ook kan verskil. Hoe meer lesers die leeservaring op die plek deel, hoe groter die multifokaliteit op die plek.

Weens die oorweldigende sin van plek wat deur die digter geskep word, en die intieme kennis van die digter wat daaruit blyk, vind daar ’n materiële vervlegting van sintuie van die leser met die fisiese element van die plek plaas. Die leser betwyfel vir geen oomblik die ingeplaastheid van die digter nie en ’n kameraderie word tot stand gebring. Sodoende word nie net samehorigheid met die leser bewerkstellig nie, maar die gedeelde liggaamlike en sensoriese materialiteit van die menslike liggame word deel van die “site of narrativity” of “storied matter”, in die woorde van Iovino en Oppermann (2012:83). Ook die referensiële “waarheid” word deur die leser aanvaar.

Toespelings op die omgewing in die gedig van Viljoen deur die ervaring van die manlike leser as minnaar bring ’n nuwe dimensie wanneer die beminde plant word en niemenslike eienskappe van die plant aan die mens toegeken word. Hierdeur ontstaan nuwe verbintenisse en narratiewe tussen die skrywende of lesende self en die objek:

ek druk my neus in die wilde salie van jou nek
hoor jy my hart klop bo die duif se roekoe-koer
streel al met die boom se koelte langs oor jou dy.

Die natuur word dus die metafoor vir menslike ervaring, ’n werkwyse wat eeue reeds deur digters ingespan word.

In my gedig word ingeplaastheid bewerkstellig deur ’n ander posisionering in die plek. Verwantskappe, ooreenkomste en verskille in hierdie posisionering tussen die twee gedigte word alreeds uit die titels van die gedigte waargeneem. In die geval van die plek in die tuin waar Viljoen se gedig is, staan daar ’n bankie onder die boom; in my gedig is daar ’n klip waarop gesit kan word. Die digter wat nie op die plek self is nie, en wat op beeldmateriaal en digitale data vir die skeppingsproses en sneller steun, vra haar af: Is die sitplek onder die boom, langs die boom, naby die boom? En waar presies gaan die leser/luisteraar hom of haar bevind? En voortspruitend word ’n breër omvattende voorsetsel, “by”, gekies in die titel van die gedig. Ook in hierdie gedig dwing die fisiese lokaliteit wat in die gedig geïmpliseer word, die leser om na die grond te kyk, wat dan as aanvangsperspektief van die gedig dien: “ek staan met my voete waar haar voete staan.” Hierdie posisionering van die digter, en by implikasie die leser, skep materiële deelname aan die plek, ’n gedeelde ervaring van plek, nie net tussen leser en digter nie, maar ook tussen leser en objek (boom), dieselfde materiële deelname wat deur die digter met die objek ervaar word. Soos in die geval van Viljoen se gedig word die gedeelde ervaring vermenigvuldig tot ’n multifokale blik soos wat die aantal ervarende lesers meer word. Ingesluit in hierdie ervaring van verbeelding is nie net die verbeelding van die digter wat op daardie tydstip nie daar is nie, maar ook van die leser wat die digter op die plek verbeel. Hierdie gelaagde verbeeldingservaring van die materiële en van die digterteenwoordigheid kom ook in Viljoen se gedig voor wanneer die digter die leser tot mede-ervaring uitnooi. Oorkoepelend gesien, in die konteks van die breër plekspesifisiteit van soetdoringboom-in-die-tuin, dra teenstellings en verskille in invalshoek en perspektief by die verskillende tekste juis by tot die hibriede (Tally:2011:xiv) en multifokale (Westphal 2011:xi) gelaagdheid van plek.

In ’n verdere teenstelling tussen die twee gedigte spreek die digter in Viljoen se gedig die leser, manlik of vroulik, aan, en smee daarmee ’n speels intieme verbintenis met die leser (“die bankie teen jou boud” en “as jou man jou vasdruk”), waardeur die uitnodiging gerig word om saam na die omgewing en veral na die boom te kyk. Die kykende menslike subjekte neem, deur die oë van die digter, die natuur as niemenslike objek waar en die leser word voortdurend bewus gemaak van die fynste besonderhede. Hierteenoor is die fokus in my gedig op die boom as ’n handelende vroulike subjek en word die leser slegs by implikasie betrek, deur in die stem van die digter met die boom in gesprek te tree. Die betrokkenheid by die handelende subjek word die wyse waarop daar gepoog word om ’n persoonlike verbintenis met die niemenslike boom en omgewing tot stand te bring en ’n fokus op die materialiteit van die omgewing te bewerkstellig, in die woorde van Haraway (2008:174), “a conversation with those who are not ‘us’”. In beide gedigte word uiteindelik betekenisse weergegee wat deur die materiële vorme op die spesifieke lokaliteit, wat die mens se eie bestaan voorafgaan, gegenereer word; die betekenisse word verryk, en sodoende word uitgebreide en selfs uiteenlopende narratiewe tot stand gebring.

Terwyl die sprekende ek-digter in die gedig van Viljoen poog om gesamentlike ingeplaastheid in die plek te bewerkstellig met die klem op die digter-leser-verhouding, ’n ingeplaaste leessituasie en lesergesentreerde ervaring, poog die ek-digter in die ander gedig om ingeplaastheid te bewerkstellig deur die verbintenis van die ek-digter met die boom, dus ’n digter-boom-verhouding en boomgesentreerde ervaring. In laasgenoemde gedig se geval wil die digter daardeur wys op die interafhanklike aard van die verhouding tussen die menslike en die niemenslike. Antropomorfiese patrone (die voete van die boom, die bruin romp van die boomstam, serpe lug en sang) word as narratiewe tegnieke ingespan om die verwantskap tussen die menslike en die niemenslike wêreld te bewerkstellig.

In teenstelling met antropomorfiese (mensvorm en kenmerke wat aan die boom toegeken word) aanwendings in my gedig word ’n omgekeerde ekomorfiese aanwending in die gedig van Viljoen in die frase “die wilde salie van jou nek” bespeur: Plantvorme en -kenmerke (geur) word aan die mens toegeken. In die lig van Iovino en Oppermann (2012:82) se siening dat antropomorfiserende narratiewe tegnieke nie as ’n teken van antroposentriese narsisme of hiërargiese visie nie, maar as “narrative expedient intended to stress the agentic power of matter and the horizontality of its elements” beskou kan word, word beide antropomorfisme en ekomorfisme in hierdie gedigte gesien as elemente wat agentskap in die hand werk. Ook Bennett (2010:99) wys op die voordeel van antropomorfiese elemente in persepsie wat resonansies en ooreenkomste, wat sy isomorfismes noem, kan blootlê wat andersins verborge kon gebly het. Die selfdoenende en aktiewe agentskap van die nielewende wêreld word daardeur beklemtoon. Die onderskeie invalshoeke van die twee gedigte, antropomorfisme en ekomorfisme, dra dus by tot die polifoniese aard van die kartering van plek: dieselfde plek wat deur meer as een teks beskryf word en gelaagde betekenisvlakke tot gevolg het.

 

6. Kritiek en selfondersoek

Binne die teoretiese raamwerk van die toetrede van die navorser-as-digter (Borgdorff 2011 en 2012) is een van die onderliggende kriteria die aanwending van selfrefleksie en kritiese selfondersoek. Die kritiek wat op laasgenoemde werkwyse van materiële verbeelding en geprojekteerde plek gelewer kan word, is velerlei en daarvan is ek as digter-navorser maar alte bewus. Vrae kan gevra word oor die “outentisiteit” van die ervaring en die belewing van ingeplaastheid wat moontlik hier ontbreek. Is gebondenheid aan ’n spesifieke plek hier ’n voorvereiste vir plekbewussyn en pleksensitiwiteit?

Ondersoek na plekgebondenheid werp lig op die ambivalente aard van plekondervinding. Volgens Berry (1972:69) word ’n plekbewuste en pleksensitiewe ingesteldheid nie deur plekgebondenheid gedikteer nie. Daarom kan, volgens Buell (2005:71), “the desire for place” bestaan ver buite die begrensing (en verhouding met ’n bepaalde plek) van die digter se onmiddellike woonplek en die plekke wat hy/sy gereeld besoek. Dit word ’n opstapeling van begeerde en verbeelde plek, waar, in Buell (2005:73) se woorde, ’n sin vir plek “a palimpsest of serial place-experiences” word.

Wat veral ter sprake is by die gedig wat deur meer prosesse as onmiddellike toegang tot werklikewêreldplek ingegee is, is dus die palimpsestiese en gelaagde aard van die ervaring van die digter en die aanbieding daarin. Daar word gesteun op sowel vorige ervaringe wat raakvlakke met die plek toon as op emosionele ooreenkomste in die belewing van ander plekke. Hierdie gelaagdheid word eweneens geëggo deur die herhalende aard van die pantoendigvorm, ’n bewustelike keuse van die digter. Die soetdoringsitplek word ’n gelaagde plek vir verskillende ervaringe, vir herhalende seisoene en reekse gehegthede aan plek en vir gelaagde geprojekteerde plek. Daardeur verkry die gedig uiteindelik ’n abstrakter of meer universele karakter.

My gedig vertoon uiteindelik nie dieselfde onmiddellikheid as Viljoen se gedig nie en boet ’n sekere mate van ingeplaastheid in deur die meer universele toonaard, iets wat juis téén plekmatigheid kan werk. Aan die ander kant maak my gedig weer aanspraak op die interaksie en uitruiling tussen die mens en die boom, en bied dit ’n natuurgesentreerde ervaring via die boom. ’n Gelaagde dubbelvisie kom tot stand waardeur onderliggende plek- en materiegeheues ingespan word. Viljoen se gedig slaag uitstekend daarin om die begrip ingeplaastheid, van digter én leser, oor te dra. Die keusetekste bied ’n verdere polifoniese toonaard aan die gedig en aktiveer daarmee die materiële verbeelding van die leser.

Die 15 gedigte, as kartering van dieselfde plek, en dus geokrities van aard, asook die digitale digtheid van verwysings, dra uiteindelik by tot ’n gelaagde, verdigte kartering van die plek. Multifokale en selfs postreferensiële kartering kom tot stand deur al 15 die Tuinverse wat oor dieselfde plek gaan. Die twee soetdoring-gedigte bied eweneens ’n gelaagde, verdigte literêre kartering van dieselfde materiële onderwerp op dieselfde plek, terwyl beide referensiële werklikewêreldplek en geprojekteerde plek tot stand gebring word.

Wat is die waarde van literêre kartografie? Wat is dit wat kartering bewerkstellig?

Volgens Trauvitch (in Tally 2014:199) word die volgende gedoen:

Mapping situates: charting an entity places it in a specific location with relation to other entities. Mapping fixes: charting an entity serves the function of anchoring it among other anchored entities. Mapping duplicates: charting an entity creates a representational copy thereof.

Benewens die situering, vaslegging en duplisering, wat almal hoofsaaklik op presisie berus, wil ek aanvoer dat die kartering van die materialiteit van plek ook die kartering van die grensloosheid van die geleefde ervaring en van geheue en verbeelding op of binne daardie plek en soortgelyke plekke is – ’n multifokale ervaring wat die digter én die leser beleef, maar wat individueel oneindige variasies inhou.

 

7. Ten slotte

Tally (2013:4) sê: “To draw a map is to tell a story […] and vice versa.” Wat is die storie van die soetdoringboom? Hoe klink die “verhaalde materie” (Smith 2014:757; Iovino 2012:83, 137) van hierdie twee gedigte? En op watter wyse dra die gedigte by tot die kartering van dieselfde plek en sy storie?

Die nuwe verwantskappe en interaksies tussen menslike liggaam (digter, leser) en niemenslike liggaam (boom, bankie, klip, tuin) word tot stand gebring deur ’n veelvuldige en gedifferensieerde wordingsproses waardeur werklikheid voortdurend geskep word, nie net deur die digter nie, maar ook deur die leesprosesse. Die transliggaamlikhede waarvan Alaimo (2010:21) praat, oftewel vloeibare “movement across bodies”, is ’n model van dinamiese en plooibare konneksie tussen materiële substansies (mens en boom) en diskursiewe praktyke van velerlei aard. Materiële verbeelding, en daarmee saam die omarming van digitale praktyke is uiteindelik deel van ’n veelvuldige reeks van agentskappe wat meewerk tot die storie van die soetdoring. Praktykgebaseerde navorsing maak dit moontlik om oor die onderskeie nuanseringe van die kartering van plek te besin en toegang te verkry tot die medeskepping van materiële verbeelding en van die agentskap van plek self. Literêre karterings van plek, nie net in die gekose twee tekste nie, maar in al die tekste wat dieselfde plekspesifieke ruimte as onderwerp het, dra by tot ’n begrip van plek wat meer is as die kartografiese werklikewêreldplek. Dit ondersoek die grense van plek; dit vind moontlikhede in die voue van die werklikheid. Die tekste reproduseer nie plek nie, maar realiseer dit deur nuwe virtualiteite, tree interaktief met plek in gesprek; en deur die performatiewe aard daarvan bring dit die moontlikheid tot stand om verandering in persepsies van plek mee te bring. Deur middel van materiële verbeelding, wat ontsluit word deur dubbelvisie, deur nagelate waarde van plek en geheue, en deur plekgehegtheid en ingeplaastheid, word ’n gelaagde, polisensoriese en multifokale perspektief van plek tot stand gebring.

Die verhaal van die materie van die soetdoring gaan voort; dit is nie afhanklik van die verhaal van een persoon nie; die vibrerende voortleef en voortvertel van materie se narratiewe veronderstel ’n verstrengeling van agentskappe; die liggaam van die mens is die bevoorregte subjek vir plekverbeelding, plekbelewing en plekprojeksie.

 

Bibliografie

Alaimo, S. 2010. Bodily natures. Science, environment, and the material self. Bloomington: Indiana University Press.

Alaimo, S. en S. Hekman (reds.). 2008. Material feminism. Bloomington en Indianapolis: Indiana U.P.

Alexander, N. 2017. Senses of place. In Tally (red.) 2017:39–49.

Bennett, J. 2010. Vibrant matter. A political ecology of things. Durham en Londen: Duke University Press.

Berry, W. 1972. A continuous harmony: Essays cultural and agricultural. San Diego, Kalifornië: Harcourt.

Biggs, M. en H. Karlsson (reds.). 2011. The Routledge companion to research in the arts. Londen en New York: Routledge. http://clab.iat.sfu.ca/804/uploads/Main/RoutledgeCompanion.pdf (21 April 2021 geraadpleeg).

Borgdorff, H. 2011. The production of knowledge in artistic research. In Biggs en Karlsson (reds.) 2011:44–64.

—. 2012. The conflict of the faculties: Perspectives on artistic research and academia. Leiden: Leiden University Press.

Buell, L. 2005. The future of environmental criticism. Environmental crisis and literary imagination. Malden, MA: Blackwell Publishing.

Byderhand Tuinverseprojek. 2015. https://byderhand.wordpress.com/category/tuinverse/ (21 April 2021 geraadpleeg).

Crang, M. 2009. Commentary on Hones, S., “Text as it happens: Literary geography”. Compass Interdisciplinary Virtual Conference, 19–30 Oktober. https://www.researchgate.net/publication/229579464_Text_as_It_Happens_Literary_Geography (21 April 2021 geraadpleeg).

Darici, K. 2015. “To draw a map is to tell a story”. Interview with Dr Robert T. Tally Jr. on geocriticism. Revista Forma, 11:27–36. https://core.ac.uk/download/pdf/217549369.pdf (22 Julie 2021 geraadpleeg).

Foucault, M. en J. Miskowiec. 1986. Of other spaces. Diacritics, 16(1):22–7. https://www.jstor.org/stable/464648?seq=1#metadata_info_tab_contents (21 Oktober 2019 geraadpleeg).

Gladwin, D. 2016. Ecocritical and geocritical conjunction in North-Atlantic environmental multimedia and place-based poetry. In Tally en Battista (reds.) 2016.

Goddard, J. 2014. Plotting one’s position in Don Quijote: Literature and the process of cognitive mapping. In Tally (red.) 2014.

Greyling, F. 2015. Sin van plek, ingeplaastheid en bioregionaliteit in ’n kunstenaarsboek-installasie, Mooirivier: weerspieëling en weerklank. LitNet Akademies, 12(3):308–57. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2015/12/LitNet_Akademies_12-3_FranciGreyling_308-357.pdf

—. 2017. Plekspesifieke digitale literatuur: samespel en wisselwerking in nuwe kontekste. LitNet Akademies, 14(2):147–89. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2017/10/LitNet_Akademies_14-2_Greyling_147-189.pdf

Haraway, D. 2008. Otherworldly conversations, terrain topics, local terms. In Alaimo en Hekman (reds.) 2008:157–87.

Hones, S. 2008. Text as it happens: Literary geography. Geography Compass, 2(5):1301–17.

—. 2011. Literary geography: Setting and narrative space. Social and Cultural Geography, 12(7):685–99.

Iovino, S. 2012. Steps to a material ecocriticism. The recent literature about the “new materialisms” and its implications for ecocritical theory. Ecozon@, 3(1):134–45.

Iovino, S. en S. Oppermann. 2008. Material ecocriticism: Materiality, agency and models of narrativity. Ecozon@, 3(1):75–91.

Kneale, J. 2009. Commentary on Hones S, “Text as it happens: Literary geography”. Compass Interdisciplinary Virtual Conference, 19–30 Oktober. http://compassconference.wordpress.com/2009/10/27/conference-paper-text-as-it-happens-literarygeography (12 Maart 2021 geraadpleeg).

Lefebvre, H. 1991. The production of space. Blackwell: Oxford.

Nora, P. 1998. Preface to the English-language edition From Lieux de memoire to realms of memory. http://faculty.smu.edu/bwheeler/Joan_of_Arc/OLR/03_PierreNora_LieuxdeMemoire.pdf (21 April 2021 geraadpleeg).

Piatti, B. 2017. Dreams, memories, longings. In Tally (red.) 2017:179–86.

Prieto, E. 2012. Geocriticism meets ecocriticism: Bertrand Westphal and environmental thinking. Épistémocritique, 9. https://link.springer.com/chapter/10.1057/9781137542625_2 (21 April 2021 geraadpleeg).

—. 2017. Phenomenology, place and the spatial turn. In Tally (red.) 2017.

Pyke, J. 2014. To the south England, to the west eternity: Mapping boundlessness in modern Scottish fiction. In Tally (red.) 2014.

Ridanpää, J. 2017. Imaginative regions. In Tally (red.) 2017.

Said, E. 1978. Orientalism: Western conception of the Orient. Londen: Routledge.

Schilling, D. 2014. On and off the map: Literary narrative as critique of cartographic reason. In Tally (red.) 2014.

Schön, D. 1983. The reflective practitioner: How professionals think in action. New York: Basic Books.

Skinner, J. 2001. Editor’s statement. Ecopoetics, 1:5–8.

Smith, S. 2012. Plek en ingeplaaste skryf. ’n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk. LitNet Akademies, 9(3):887–928. https://litnet.co.za/assets/pdf/Smith_9_3_GW17.pdf

—. 2014. Ekokritiek en die nuwe materialisme: ’n Ondersoek na die nuwe materialisme in enkele gedigte van Johann Lodewyk Marais uit die bundel In die bloute (2012). LitNet Akademies, 11(2):749–74. https://litnet.co.za/assets//pdf/joernaaluitgawe_11_2/11_2_Smith.pdf

—. 2015. “By die soetdoring”. Tuinverse. Bylae A. [Die gedig se beskikbaarheid is plekspesifiek en kan per QR-kode by die NWU Botaniese Tuin in Potchefstroom gelees word.]

Soja, E. 1996. Thirdspace: Journeys to Los Angeles and other real-and-imagined places. Oxford: Basil Blackwell.

Tally, R.T. jr. 2011. Introduction on geocriticism. In Tally (red.) 2011.

—. 2013. Spatiality. New York: Routledge.

—. 2014a. Series Editor’s Preface. In Tally (red.) 2014.

—. 2014b. Mapping narratives. In Tally (red.) 2014.

—. 2016a. Meditations. Literary Journal of the Marxist Literary Group, 29(2):113–23.

—. 2016b. Introduction: ecocritical geographies, geocritical ecologies, and the spaces of modernity. In Tally en Battista (reds.) 2016.

Tally, R.T. jr. (red.). 2011. Geocritical explorations: Space, place and mapping in literary and cultural studies. New York: Palgrave Macmillan. https://link.springer.com/book/10.1057/9780230337930 (17 Maart 2021 geraadpleeg).

—. 2014. Literary cartographies: spatiality, representation, and narrative. New York: Palgrave Macmillan.

—. 2017. The Routledge handbook of literature and space. Londen en New York: Routledge.

Tally, R.T. jr. en C. Battista (reds.). 2016. Ecocriticism and geocriticism. Overlapping territories in environmental and spatial studies. New York: Palgrave Macmillan.

Trauvitch, R. 2014. Charting the extraordinary: sentient and transontological spaces. In Tally (red.) 2014.

Tsay, A. 2014. “Eyes that have dwelt on the past”: reading the landscape of memory in The mill on the Floss. In Tally (red.) 2014.

Turchi, P. 2007. Maps of the imagination: the writer as cartographer. San Antonio: Trinity University Press.

Viljoen, H. “Onder die soetdoring”. Tuinverse. Bylae B. [Die gedig se beskikbaarheid is plekspesifiek en kan per QR-kode by die NWU Botaniese Tuin in Potchefstroom gelees word.]

Wark, M. 1994. Third nature. Cultural Studies, 8(1):115–32. https://www.tandfonline.com/doi/pdf/10.1080/09502389400490071?needAccess=true (19 April 2021 geraadpleeg).

Westphal, B. 2011. Geocriticism: real and fictional spaces. Vertaal deur R. Tally jr. New York: Palgrave Macmillan.

Williams, C. en A.D. Smith. 1983. The national construction of social space. Human Geography, 7:502–18.

Winkler, K., K. Seifert en H. Detering. 2012. Literary studies and the spatial turn. Journal of Literary Theory, 6(1):253–69.

Wylie, J. 2005. A single day’s walking; narrating self and landscape on the South West Coast path. Transactions of the Institute of British Geographers, 30(2):234–47.

 

Toestemming

Toestemming vir die gebruik van die QR-kodes van die Tuinverse in hierdie artikel is verkry van Franci Greyling en Bernard Odendaal, projekleiers van die Byderhand Tuinverseprojek verbonde aan die vakgroep Skryfkuns by Noordwes-Universiteit (Potchefstroom).

 

Bylae A

Toegang tot die verse en meegaande sensoriese inligting kan verkry word deur ’n QR-leser op jou selfoon af te laai. Gaan dus na PlayStation en soek na ’n QR-leser. Skandeer die onderstaande QR-kode met jou leser en volg die skakel.

Onder die soetdoringHein Viljoen Interaktiewe QR-kode

Onder die soetdoring
Hein Viljoen
Welkom by die interaktiewe voorlesing van die gedig.
Begin met gedig

Hi. Wie wil jy vandag wees?
Spreek die naam mooi duidelik in: Is jy vandag ’n man of ’n vrou?
Man/Vrou

_________________________
Vrou

Hallo …
Mag ek in jou oor fluister?
Ja/Nee
hier mors jy mos jou tyd 
jy verdien nou niks nie; 
hier’s niks om te bestuur nie
hoeveel die sterblom werd is?
g’n idee nie – vra vir Dawie Rood 
hoeveel sal mens per plakkie kan maak?
kan jy dit 100% opmerk? Selfs in die week?
en wat gaan jou bokoste wees?
nie die moeite werd nie

Wil jy voortgaan om die gedig te hoor?Ja/Nee

sien jy die son warm deur die takke straal?
nou ja
luister fyn hoe die watertjie ver weg klater 
verbeel jou jy streel oor die ou klip daar regs
hoe voel dit? net skurf? glad ook?
holtes en rondings?
nee, wees meer presies – soos wat presies?
’n tyrannosourus se rug?
’n mieliestronk as jy ’n veltie vang?
jy weet nie van velties nie? 
jou man se hakskene in die winter dalk?
of die grein van die soetdoring se stam
as jou man jou vasdruk daarteen
die boom uitgebars van geel pom-pommetjies
dig van bye se gezoem?

Of nie?

Nou sê dan self vyf woorde in jou foon.

sit doodstil. wag
bekyk die fyn ligene en die mos op die soetdoring se stam
klap die muskiet weg op jou hand
ruik jy die wilde salie? 
sit doodstil. wag
luister mooi

Volgende
hoor jy die son oplos
asof jy ligsku raak van ganskweek se gif?
sag soos ’n liddoring van vet plakkieblaar? 
voel jy hoe die soetdoring se wortels jou opneem
jou uitasem bo in die son die blou lug
waai jy weg op die wind

Wil jy die gedig weer hoor?
Ja/Nee

jy’s te skaam? nou ja toe
red nou ’n volk
lui maar liewer af

________________________________
Man

sommer lawwigheid hierie tuinverse
wie sit nou hier en dink poësie?
poesie dalk
in ieder geval taamlik ongemaklik
die bankie is hard en die son te warm
maar let op
hoe silwerig sis die lig
deur die fyn karteling van die soetdoringblaar
hoe roer die katstert links
hoe blink die blare van die reusesalie
laat jou oog gly oor die grasperk, deur die kanferboom
tot by die stergepunte klipbeeld doer ver

Sit jy rustig?
Ja/Nee
Nee

jy’s te skaam? nou ja toe
red nou ’n volk
lui maar liewer af

Ja
Is dalk ok nie so ’n goeie idee nie
ek druk my neus in die wilde salie van jou nek
hoor jy my hart klop bo die duif se roekoe-koer
streel al met die boom se koelte langs oor jou dy
voel jy hoe warm is die bankie teen jou boud? nie?
wag wag
netnou kry ons minnaars hondsegedagte
ons kan nie sit en vry hier in die oopte nie
maar wat voel jy dan presies?

Kliek op “Begin Opname” en sê dan iets in jou foon.

hallo …
blom die enkele strelitzia nog? laat jou oë
oor die grasperk dwaal, verby die olienhout
skram van die groot kanferboom weg
en fokus deur die takke op die vreemde sterstandbeeld doer.

Volgende
hoor jy die son oplos
asof jy ligsku raak van ganskweek se gif?
sag soos ’n liddoring van vet plakkieblaar? 
voel jy hoe die soetdoring se wortels jou opneem
jou uitasem bo in die son die blou lug
waai jy weg op die wind

Wil jy die gedig weer hoor?
Ja/Nee

 

Bylae B

 
By die soetdoringSusan Smith Interaktiewe QR-kode

by die soetdoring
                       Acacia karroo
Susan Smith

die boom staan met haar voete waar my voete staan
haar bruin romp is met roes brokaat ingebrand
en lente reis sy weer met sonpomponne in ’n soet geknoopte wentelbaan
óm die dubbelgeveerde blare vlaamse kant

haar bruin romp is met roes brokaat ingebrand
kyk ek op, sien ek serpe hoëveldse lug, die syblou omhelsing
óm die dubbelgeveerde blare vlaamse kant
in ’n somerdeurspoelde ligvermeerdering

kyk ek op, sien ek serpe hoëveldse lug, die syblou omhelsing
en ondertoe ’n opgetelde stukkie boombas wat ek balanseer
in ’n somerdeurspoelde ligvermeerdering
tot herfs, tot winter, met witter dorings en blaarverweer

en ondertoe ’n opgetelde stukkie boombas wat ek balanseer
die sekelpeule sal gaandeweg al brosser sing
tot herfs, tot winter, met witter dorings en blaarverweer
hou die aarde haar in stand in hierdie minnende kring

die sekelpeule sal gaandeweg al brosser sing
en lente reis sy weer met sonpomponne in ’n soet geknoopte wentelbaanhou
die aarde haar in stand in hierdie minnende kring
die boom staan met haar voete waar my voete staan

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Literêre kartering van plek: ’n geokritiese ondersoek na materiële verbeelding en ingeplaaste skryf in twee “Tuinverse” appeared first on LitNet.

Oor skuld en vryheid

$
0
0

Oor skuld en vryheid

Hercules Boshoff, Postdoktorale navorser, Noordwes-Universiteit

LitNet Akademies Jaargang 18(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

“Hoe nuttiger de lering is, des te naarstiger moeten wij oppassen, dat we haar niet verkeerd gebruiken” (Calvijn 1956:239). 

Opsomming

Die oogmerk van hierdie artikel is om by ’n wesenlike begrip van skuld uit te kom, wat sowel spekulatiewe as historiese ondersoek vereis. Eerstens gaan die veronderstelling weerlê word dat skuld ’n toevallige byproduk van sekere praktyke van die samelewing (byvoorbeeld handel) is deur daarop te wys dat skuld eerder ’n raamwerk skep waarbinne sosiale praktyke ontstaan en onderhou word. Die instellings van ’n samelewing stabiliseer enersyds die raamwerk, maar bied andersyds ook ’n dinamika waarbinne die verskuldig-wees van die mens uitgedruk word as ’n ontplooiing van sy potensiaal. Hierdie raamwerke is nie staties nie en ondergaan dusdanig verandering oor tyd en is onderworpe aan verbetering en kritiek. Om die wesenlike verskuldig-wees van die mens egter nie tot ’n bloot patologiese beskrywing te verskraal nie, vereis die toevoeging van ’n maatstaf vir die teregkom van die mens binne die raamwerk van skuld, en hierdie maatstaf is die verwesenliking van vryheid. Vryheid is gegrond in die verskuldig-wees van die mens, maar gee daaraan ’n gerigtheid. Vryheid “ontsnap” dus nooit aan die skuld of maak dit onnodig nie, maar herinterpreteer skuld as noodsaaklike begrip vir sy eie verwesenliking.

Trefwoorde: aflaat; instellings; natuurlike religie; offer; selfbepaling; skuld; verbond; verskuldig-wees; vryheid

 

Abstract

On indebtedness and freedom

This contribution seeks to arrive at a deeper understanding of the notion of guilt, which requires input from both a speculative and historical perspective. Popular notions of guilt as a product of practices within certain domains (religious and economic) will be challenged by exploring guilt as an underlying condition of social interaction, even of society itself. In this sense, following Heidegger, guilt is considered first and foremost as a “pre-moral” source of morality. This realisation does not necessarily render morality delusional; rather, it opens up broader questions about the very possibility of morality that cannot be ignored whenever it presents society with normative principles. Whereas Nietzsche suggested a re-evaluation of values, I suggest that the possibility of morality reveals itself only after the demoralisation of morality. The question of guilt therefore puts morality into perspective and opens it up to thought, rather than making thought its slave. Thinking is the activity of a free being; it is the activity in which freedom finds its highest expression. It is freedom, the essence and the telos of human beings, which calls for morality. In other words, the seemingly contradictory question of how freedom can be achieved given the fact of guilt can be asked. This question is addressed by considering guilt as the source of morality on the one hand, and freedom as its purpose on the other. 

People associate with one another on the basis of a common interest (even if that interest is self-interest), and they “owe” met allegiance to that principle or object. Put differently: They are indebted to it. (Some Germanic languages, including Afrikaans, have the same word for debt and guilt, e.g. Afrikaans skuld.) Augustine calls such common interest a love that manifests through the use of reason to decide how society will organise itself around the object of love (Sizoo 1947:35). Partaking in the object of love requires certain sacrifices on the part of the self (the payment of debt). The sacrifice is rewarded through the provision of sources of self-understanding but also recognition by others. Standards or orders of recognition are institutionalised and relatively static, but they do change over time because of the fluid dynamics in the interpretation of the relation between subject/object and subject/subject, which allows society to adapt without collapsing in upon itself through a war of all against all (although this does occasionally happen). At this point one must strongly resist the temptation to present guilt as a system or a mechanism that not only describes, but also prescribes certain behaviour. 

To arrive at an understanding of guilt as a necessary but insufficient foundation of morality requires a multi-faceted approach. A historical overview of the meaning of guilt will be the first step. In broad terms: Guilt finds its origin in a cosmological (cyclical) order that comprises a balance of forces. Justice is served by restoring balance through sacrifice, often human (miasma). If blood was spilt, blood needs to spill again. In the next phase, order is seen as being created from chaos by a transcendent God. Here, justice depends on divine judgement and cannot be derived from nature. Judgement is revealed through a covenant, which forms part of teaching (Torah). In the case of Job, God not only reveals himself, but also veils himself. This moment of absence requires of Job a will to keep faith despite receiving no reward for his efforts. This pure will to do good for its own sake, to be indebted even to an absent God, sows the seeds for a new kind of society that can structure itself around the good itself, and for social relations that are not founded on the principle of material gain.

The distortion of the notion of a transcendent order presiding over the living is most clear in the concept of purgatory. Here, the living must compensate for the offences of the dead through the mediation of the church. If this is done satisfactorily, a soul relegated to one part of purgatory can be promoted to a better position. The unintended outcome of this practice, although fundamentally corrupt, was that it introduced a fluid conception of eternity, which, in turn, contributed to the eventual collapse of the medieval hierarchies. Dante’s Comedy already constitutes steps in the direction of the self as standing in an unmediated eternity. Luther heavily criticised the church for extending its administrative capacity to the realm of eternity, and emphasised the essential freedom of a Christian. (In so doing, he reinforced the notion of a direct connection between the individual and the realm of eternity, regardless of social standing.) It is not that one can attain salvation through good works; good works are possible through the acceptance of grace, the contemplation of (translated) scripture, and faith.

The fact that the individual is no longer indebted to others for salvation follows from the conception of the essential freedom of the person around which modernity has formed its institutions. However, the distorted and essentially unhistorical perspective of freedom as unimpeded movement only does no justice to the potential of freedom. I maintain that the only way freedom can be properly understood is through the concept of embedded freedom. This requires a reintroduction of guilt as the source from which all values spring. Hegel’s notion of Sittlichkeit helps us to consider freedom as both constituted and directed. Freedom is achieved only through its own self-contemplation, not by means of a dogmatic principle of unimpeded movement. One is indebted through always already having received, even a history against which one rebels. The conscience, understood as Gewissen, is able to contemplate values not only statically – according to tradition, individual needs, or plans for the future – but as the very condition for freedom. In this sense, guilt can be understood as directed to its opposite, freedom, and freedom is seen not as unmoved movement, but as always moving within the conditions that hide within its revelation.

Keywords: being-indebted; covenant; freedom; guilt; institutions; natural religion; purgatory; sacrifice; self-movement

 

1. Inleiding

1.1 Agtergrond van die begrip van skuld

Skuld is nie ’n vreemde begrip vir die moderne mens nie. Gereeld hoor en lees ons daarvan, hoofsaaklik in die meetbare domein van die ekonomie. Om die begrip in sy volle omvang te verstaan, is dit noodsaaklik om ’n teenintuïtiewe skuif te maak, naamlik om vanuit die meetbare, waaraan ons so gewoond geraak het, terug te werk na die oorsprong, ontwikkeling en aard van skuld. Die motivering hiervoor is tweeledig. Enersyds word gepoog om ’n kritiek te lewer op die misplaaste persepsie van ekonomiese teorie sedert Adam Smith (wat steeds byval vind) ingevolge waarvan skuld ’n byproduk is van ekonomiese prosesse, te wete handel dryf en die totstandkoming van geld (Graeber 2014:21);1 andersyds moet ’n breër begrip geskep word vir skuld as ’n fundamenteel menslike verskynsel waarin die ekonomiese variant ingebed is. Hierdie motiverings het nie ten doel om die ekonomiese variant van skuld te ondermyn nie, maar om ’n breër begrip van skuld te ontwikkel. Die oogmerk is nie om skuld bloot as antropologiese meganisme te skets nie, maar om die redelikheid en lewensvatbaarheid daarvan te oorweeg.

Skuld het ’n omvangryke betekenis, soos uit die etimologiese verklaring van die ou vorm daarvan, skal, afgelei kan word.

Dit hou verband enersyds met die hedendaagse begrip van skuld, naamlik ’n boetedoening of regstelling van ’n gebeurtenis in die verlede, en andersyds ’n voorneme om iets in die toekoms te doen, soos wat die Germaanse woorde sal/shall/sollen bevestig. In beide gevalle, die terugwerkende en die toekomsgerigtheid van skuld, is ’n onvoltooide/voortdurende interaksie tussen twee of meer partye ter sprake. Die begrip van menslike bestaan as gerig tot veelvoudige tydsordes word dan dikwels uitgedruk in terme van die begrip van skuld.

Ten spyte daarvan dat mens die twee betekenisse, boetedoening en toekomsplig, nie in die hedendaagse spreektaal direk aan mekaar koppel nie, is dit nie onbenullig om die rykdom van ’n begrip se geskiedenis na te gaan om nuwe betekenisse daarvoor te soek nie, veral wanneer die betrokke begrip belangrik bly, maar tog eenduidig geword het. Die taak is dan om die huidige gebruike van die begrip, wat waarskynlik in die geval van skuld ekonomies en moreel van aard is, nie op te hef nie, maar voorlopig oop te stel vir ander betekenismoontlikhede. Die gebied wat hier verken word, is ontologie, menslike bestaan as sodanig. Heidegger beweer selfs dat “schuldig-zijn niet het resultaat is van een verschuldigd-zijn, maar omgekeerd: een verschuldigd-zijn wordt pas mogelijk ‘op grond’ van een oorspronkelijk schuldig-zijn” (Heidegger 2013:358). Critchley (2009) som die invalshoek van Heidegger se benadering as volg op: “Guilt is the pre-moral source for any morality.” Hoewel dit dus korrek is om moraliteit in verband te bring met skuld, volg dit nog nie dat skuld noodwendig ten volle gelyk gestel kan word aan moraliteit nie. Hoekom nie? Die aard van menslike bestaan, Dasein, die daar-wees, bepaal dat die mens dikwels sekere keuses uitoefen ten koste van ander keuses wat moontlik ook goed kan wees: Een keuse kan ’n bepaalde groep mense ten goede uitwerk terwyl dit terselfdertyd ander kan benadeel. Verder neem die self besluite vanuit die eie gewete wat beswaar mag opper teen praktyke in die samelewing, die das man. In die eerste geval is die Dasein verskuldig aan diegene wat benadeel is deur sy besluite en in die tweede geval is die Dasein verskuldig aan sy gewete (Inwood 1997:73). Hy kan nie aan sy skuld ontkom nie. Hierdie onvermydelike keuses en gepaardgaande skuld is dus fundamenteel tot menslike bestaan. Heidegger sit die oorspronklikheid van skuld so uiteen: “Dit wezenlijk schuldig-zijn is gelijkoorspronkelijk de existentiale mogelikheidsvoorwaarde van het ‘moreel’ goede en kwade, dat wil zeggen van de moraliteit als zodanig en de feitelijk mogelijke vormen daarvan” (Heidegger 2013:361).

Kan daar enige bewysvoering vir Heidegger se standpunte gelewer word?

Antropologiese ondersoek dui daarop dat wydverspreide praktyke van die alledaagse lewe en die godsdienstige begrip van skuld ten diepste verweef is, soos uitgewys deur die sosioloog Geoffrey Ingham se waarneming: “In all Indo-European languages, words for ‘debt’ are synonymous with those for ‘sin’ or ‘guilt’, illustrating the links between religion, payment and the mediation of the sacred and profane realms by ‘money’” (Ingham soos aangehaal in Graeber 2014:59). Die mens staan dan in ’n ongelyke verhouding ten opsigte van die gode (hetsy onpersoonlike of persoonlike natuurkragte of transendente wesens), wie se guns hy deur offerande probeer wen. Slaag hy daarin, dan skenk die godheid aan hom ’n goedkeuring om die natuur te bewerk en uit die natuur dinge te neem en tot sy persoonlike en sosiale behoeftes te omvorm. Die rol van die offer as dit wat toegang tot die kosmiese kragte of transendente verskaf, is verder belangrik aangesien dit met die idee van oorskakeling en oorgang, twee sentrale temas by die mens, te make het. Die wyse waarop die lewe van ’n mens tot die ryk van die gode gerig is, kan deur die volgende beskrywing uit antieke Indië aangetoon word: “A man, being born, is a debt; by his own self he is born to Death, and only when he sacrifices does he redeem himself from Death” (aangehaal in Graeber 2014:56). ’n Beskawing wat standhoudend bly, beskou die dood nie as ’n belemmering tot sy voortbestaan nie, maar bewerkstellig sy eie standhoudendheid deur die preservering van die siel: aanvanklik in grafkelders en kunswerke, later in die mediums van boeke, en vandag by wyse van die digitale profiel.

1.2 Die rol van instellings

Die mens se kennismaking met die natuur en die verwesenliking van sy volle potensiaal is bemiddeld, omdat hy slegs binne sosiale strukture en deur simbole in staat is om hierdie aangeleenthede te begryp. Die individu skep nie self hierdie strukture nie, maar bevind hom of haar alreeds gesetel in en beïnvloed deur standhoudende, gelegitimeerde en geïnstitusionaliseerde prosesse. Die prosesse word georden deur dominerende instellings wat raamwerke van waarde daarstel. Die dominerende instellings ondergaan konstante ontwikkeling wat begin by die rite, die stadstaat, die kerk en die mark. Ofskoon verandering by instellings konstant is, kan die opbloei van beskawing kwalik daarsonder voorgestel word. Skuld is egter nie gesetel in die instellings nie, maar in die verhouding (die ver-skuldig wees) tussen die individu en die instelling. Die individu kan skuldig voel al kom hy/sy die reëls na, terwyl die instellings ’n persoon skuldig kan bevind indien die persoon wette oortree. Die individuele gewete vervul die rol om sy of haar eie teregkom en dié van ander selwe en ander wesens ten aansien van die struktuur te oorweeg.

Die instellings, as sfere van handeling, verleen dinamika aan die samelewing deur maatreëls daar te stel vir omskakeling (handel en rite) en persoonlike oorgange (ont-wikkeling oftewel die losmaak van een fase en die erkenning dat ’n persoon ’n nuwe fase betree). Perversie vind plaas, soos ons sal sien, wanneer instellings prosesse misbruik om uitsluitlik hul eie doel te dien. Die doel van die instelling is dan om effektiewe oorgang of omskakeling tussen ordes wat in hul aard verskil, te bewerkstellig. Opsommend kan ons verwys na die vertikale verhouding tot die ryk van die gode of ideale en die horisontale verhouding tussen mense. Geen instelling is alleen binne een van die ordes gesetel nie. Hierdie ordes word onderskei, maar by wyse van praktyke en instellings is hulle nie volledig geskei nie. Met verwysing na die handelstransaksie kan aangetoon word hoedat die ordes mekaar impliseer en raak.

Die ruiltransaksie vereis nie net ’n korrespondensie van die item tot die verbruiker se behoefte (vraag) nie; die waardasie vereis in die eerste plek ’n negering van die eie behoefte deurdat iets prysgegee moet word alvorens iets anders terugverwag kan word; dit wil sê, voordat die direkte transaksie plaasvind. Daarbenewens is die transaksie reeds ingebed in ’n hele reeks konvensies wat beide partye gehoorsaam alvorens die geldigheid van die transaksie herken kan word. Die transaksie, afgesien daarvan of dit eenmalig is, is ingebed in reëlmaat wat afkomstig is uit die bepaling van oorspronklike en voortdurende skuld, wat nie opgehef word deur billike transaksie nie, maar juis daardeur bevestig en verdiep word. Die verskuldig-wees is ingebed in ’n meer fundamentele skuldig-wees, om ons weer aandagtig te maak aan Heidegger se verduideliking. Die etimologiese uiteensetting van die Griekse woord vir geld, nomisma, wys daarop dat geld oorspronklik ten nouste aan die offer gekoppel word, en nie bloot as ruilmiddel tussen mense verstaan is nie (Boshoff 2019). Die offer lê die aanvanklike basis vir verhoudings van voortdurende omskakeling wat prysgawe as voorwaarde daarstel. Skuldig wees of verskuldig-wees wees lê aan die wortel van alle handel. Om handelstransaksies te laat plaasvind, vereis dus opoffering.

Dit wil voorkom of skuld as voorwaarde vir die doen en late van ’n gemeenskap dien. Augustinus bied ’n digverpakte uiteensetting van die wyse waarop ’n samelewing saamleef: ’n Volk is “een saamhorige redelijke menigte, die verbonden is door een eendrachtige gemeenschap van zaken, welke zij liefheeft” (aangehaal in Sizoo 1947:35). Die gewoontes en praktyke van die samelewing verwerklik die beginsel (dit wat die volk lief het), ’n proses wat ’n konstante wisselwerking tussen die hoogste beginsel en die konkrete werklikheid vereis, waarin die beginsel in die konkrete werklikheid gestalte kry (oftewel geopenbaar word) en die veranderende wêreld omgeskakel word in iets standhoudend wat korrespondeer met die objek van liefde. Dit beteken dat die bevrediging van die mees basiese behoeftes nie sonder gesanksioneerde prosesse kan plaasvind nie, maar dat die hoogste beginsel ook gestalte moet kry in (sommige van) die mees basiese gebruike, soos die maaltyd (dink hier aan eet, wat in die godsdiens ’n sentrale rol in die inkarnasie van die beginsel vervul).

Op hierdie punt moet ons vlugtig terugverwys na die wanopvatting oor die wese van die mens wat deur die hoofstroomekonomie voorgehou word. Die sogenaamde natuurtoestand van eiebelang wat Hobbes (1985) met die uitdrukking homo homini lupus (elke mens is ’n wolf vir ’n ander mens) beskryf, is nie eers op ’n grondige dierkundige kennis geskoei nie, aangesien wolwe oor die algemeen mekaar nie bloot verskeur nie, maar in troppe saamleef. Die kwessie wat egter ter sprake kom, is nie die individuele/gemeenskaplike aard van die mens nie, maar die feit dat die mens – anders as diere wat ’n vasgestelde patroon van saamleef navolg – sukkel om te bepaal hoe sy lewe uiteindelik ingerig moet word. Die redelike mens is uiteraard ook die mees besinnende wese op aarde, wat die absolute patroonmatigheid van menslike lewe en menslike saamwees as maatstaf diskwalifiseer. Aristoteles (2005) het die mens as zoon politikon beskryf, nie om bloot op die mens se saamleef as wyse van bestaan te wys nie, maar om die polis as versamelpunt van ’n aantal instellings te belig. Binne die instellings verkry mense erkenning. Een oomblik van erkenning is ingebed binne konvensies en gewoontes wat die konteks en toestande vir die erkenning skep.2 Die konvensies stel grense waarbinne die individu erkenning verkry. Hierdie grense word natuurlik oorskry, maar soos ons sal sien deur die voorbeeld van die aflaat en die kerkhervorming, verskyn ’n nuwe stel konvensies nie uit die niet nie, maar word altyd ’n koppeling met die voorafgaande struktuur veronderstel. Die moontlikheid van die oorkoming van ’n uitgediende orde lê reeds in sigself.

 

2. Na ’n meer omvattende begrip van skuld

Dit is nodig om te onderskei tussen die manifestasies van skuld en skuld self. Die manifestasies bied leidrade en insigte, maar dit is nodig om die waarnemings aan te vul om by die wese van die probleem te kom.

Skuld is die stel voorwaardes en praktyke wat toegang tot ’n gemeenskaplike voorwerp bepaal. Voldoening aan die voorwaardes het ’n ordeningseffek op die samelewing; dit wil sê, dit subjektiveer mense onder ’n bepaalde objek en bring ’n bepaalde verwikkeldheid tussen mense teweeg. Hierdie verwikkeldheid is nooit ’n gegewe nie, en word aktief en dinamies deur praktyke, instellings en reëls onderhou. Die mens se subjektiwiteit verkry legitimiteit, dit wil sê erkenning, vir sover dit in verhouding tot hierdie objek tree. Die aard van die verhouding is nie stabiel nie; dit verander oor tyd – ’n verandering wat gekenmerk word deur ’n verskuiwing vanaf die aanvanklike sterk beklemtoning en dominering van die objek oor die subjek tot die sterker prominensie van die subjek as dit waartoe die objek ingerig moet word.

Dit is so dat elke gemeenskap versamel rondom sekere pragmatiese oorwegings, maar hierdie oorwegings is tegelykertyd geabstraheer en verkry metafisiese en/of mitiese betekenis. Dit is nodig dat hierdie skuif plaasvind, aangesien die abstrahering nodig is vir elke individu om binne die reg as sodanig erken te word. Skuld bepaal tegelyk beweging en stabiliteit of stolling in die vorm van kanonisering en waarde wat aan objekte en aan posisies binne die samelewing geheg word. Die dinamika van die samelewing berus juis in die beperking (wat soms uitgedaag en getoets word) op die moontlike wyses waarop die objek benader kan word.

 

3. Gestaltes van skuld

3.1 Oorsig

Skuld bemoontlik beweging tussen die aarde en die hemel (konkrete en ideale). Die ruimte wat tussen aarde en hemel oopgemaak word, is wêreld. Die verwikkeldheid tussen die sfere word bepaal deur skuld, en vind gestalte in praktyke waarvolgens oorgang tussen die ordes bewerkstellig word. Die oorgang van iets sodat dit ’n nuwe betekenis kry, oftewel in ’n ander betekenisveld inbeweeg, beteken dat dit eers sy aanvanklike kenmerke, sy afgesperde besondersheid, moet prysgee. Na afloop van die oorgang word skuld nie as sodanig opgehef nie, maar kom nuwe vorme van verskuldiging tot stand. 

3.2 Natuurlike religie

In hierdie kosmoteïstiese fase word die natuur voorgestel as iets wat oor interne balans beskik, wat sodra dit deur die mens versteur word, herstel moet word deur ’n offer van die mens te eis. Die gedagte van skaal as dit waarin die balans gemeet word, kom hier ter sprake. Die natuur het in hierdie fase ’n bepalende effek op die mens, wat op sy beurt min teenkanting teen die gang en werking van die natuur kan bied. Die natuur word dan geïnterpreteer as onverskillig/ongeërgd ten opsigte van die mens: “There is a sense in which, for early religions, the divine is always more than just well disposed toward us; it may also be in some ways indifferent; or there may also be hostility, or jealousy, or anger, which we have to deflect. Although benevolence, in principle, may have the upper hand, this process may have to be helped along, by propitiation, or even by the action of ‘trickster’” (Taylor 2012:33). ’n Offer gee ook erkenning aan die natuur as veelkantige eenheid en siklus. Die offer kan nie natuurlike proses omkeer nie, bloot ’n groter harmonie bewerkstellig. By die Grieke word ’n misdaad begryp as ’n daad wat die orde van die kosmos versteur, wat die chtoniese magte, die “skadukant” van die gode, aktiveer: “Once activated, their power worked automatically and could not be recalled” (Armstrong 2006:54).

Skuld begryp as ingebed binne die balans van die natuur is dus iets wat nie eie is aan die tyd van klimaatsverandering nie, maar behoort tot die antieke mens. Geregtigheid word breër begryp as die enkele wet waarmee die oortreding in spanning verkeer, en is gerig op die herstel van die ekwilibrium van die kosmos. Die woord kosmos beteken juis oorspronklik “orde”.

Die mens as wese wat stelselmatig meer dominerend oor die natuur word, by wyse van veral landboutegniek, wat meebring dat hy nie agter kos aan hoef te trek nie, baseer stelselmatig sy idee van die samelewing en die reg op hierdie vernuftigheid om die natuur te kan manipuleer. Hierdie breuk met die natuur is terselfdertyd nooit volledig nie. Die mens is en bly self ’n natuurlike wese. Sy skuld het dan te make met ’n verskuldiging aan sy wese as burger van die stad en as een wat aan sy natuur moet voldoen. Die stoïsynse logos spermatikos-gedagte by die Romeinse beskawing probeer nog bemiddel tussen die “beskaafde” en die “natuurlike” aard van die mens. 

3.3 Oersonde en die verbond: die wet en die beeld van God

Met die Joodse godsdiens word die kosmoteïstiese spanningsvelde uitgedaag deur orde wat vanuit die transendente aan die werklikheid toebedeel word, en word die hemelliggame gevolglik reeds in Genesis 1 verontheilig met slegs die lewegewende woord wat in sigself heilig bly (Joh. 1:1). Orde moet by die Joods-Christelike godsdiens noodwendig geskep, van buite gegee, word. Hieruit word ’n andersheid ten opsigte van die verhouding tussen die mens en sy waarneembare omstandighede daargestel, gegewe dat die mens na die beeld van God geskep is en die kroon van die skepping uitmaak. Met die sondeval het die mens se aanspraak op sy belangrikheid ’n knou gekry en kan die mens nie vanuit sy eie pogings perfeksie bereik nie. Die brug tussen die mens en sy volle potensiaal word gebou aanvanklik deur die verbond as dit waardeur die mens sy neiging kan transendeer om sy werklike doel te verwesenlik (die betekenis van die woord Torah is juis “opvoeding).

Afgesien van die wet, wat ’n positiewe bepaling van menslike gedrag verteenwoordig, is daar ook ’n versluiering of onttrekking van God in die boek van Job wat ook oorweging noodsaak. In die fassinerende eerste hoofstuk van Job tree die Duiwel op as advokaat wat die suiwerheid van Job se geloof in twyfel trek. Die bewering word gemaak: Job dien God bloot vir eie gewin. God moet dan sy voorsienigheid aan Job onttrek; net sy lewe mag behoue bly. Job moet bereid wees om te aanvaar dat geen van sy besittings ’n bepalende effek op sy saligheid het nie. Hier het ons te doen met ’n begrip van die goeie wat buite die verskyning tree: “There is a notion of our good which goes beyond human flourishing” (Taylor 2012:34).

By Job gaan dit oor geloof in die volste sin van die woord, geloof ter wille van geloof. Die geloof in die negerende sin, dit wil sê die weerhouding van oorgawe aan neigings, is nie iets wat uit eie inspanning vermag word nie, maar as nabootsing van die onttrekking van God. God word hier nie begryp as “iets” anderkant die negering nie, maar in terme van die negatiewe as sodanig. Ons het hier te make met die toetrede van wat genoem kan word suiwer wil. Deur hom te weerhou van sy terugval op materiële begeertes, tree Job eintlik in die beeld van God as weerhouding op.

Job, soos dit ook die geval is by Noag en Daniël, se koppigheid, vasberadenheid en volharding bly egter ’n uitsondering, en wat die meeste mense betref, is daar ’n onvermoë om die wet te onderhou, en gevolglik word daar by die Christendom nog ’n verdere stap ingelees, naamlik die ingryping van God in die vorm van selfoffer. Wanneer God die offermasker van die mens dra, word die moontlikheid aan die mens gebied om in die beeld van God, en in die voetspore van Christus, sy eie wil te kan uitoefen, ’n wil wat nie deur die eksterne moet voorgeskryf word of deur die interne neiging nie, maar deur die sal en die wil – nie deur inperking nie, maar deur moontlikheid. Die verskil tussen moet en sal is klein, maar belangrik. Eersgenoemde veronderstel nie keuse nie, maar by laasgenoemde wel. Die kritiek teen die Christendom weerklink dikwels dat die deelnemers nie so getrou die gebruike volg nie, maar die feit dat hierdie deelname voortspruit uit die keuse wat aan die persoon gegee word en nie in vereiste navolging nie, is belangrik. Die gebeurtenis van verlossing veronderstel nie bloot dat die mens dit passief ontvang nie (ofskoon die mens niks gedoen het om dit te verdien nie); dit verander die wyse waarop die mens sy eie handeling verstaan as dit wat nie aan die noodlot gekoppel en vooruitbepaal is nie, maar as dit wat reeds en voortdurend deelnemend aan verlossing, aan vryheid, is.

Hegel beskou die belangrikheid van die Christelike leer van die erfsonde as iets wat nie gering geskat moet word nie:

The Christian doctrine that human beings are by nature evil is superior to the other which takes them to be by nature good. This doctrine is to be understood as follows in accordance with the philosophical exegesis of it: As spirit, the human being is a free being who is in the position of not allowing himself to be determined by natural impulses; when his condition is immediate and undeveloped, the human being is in a situation in which he ought not to be and from which he must free himself. This is the meaning of the doctrine of original sin without which Christianity would not be the religion of freedom. (Hegel 2008:40)

Die wyse waarop die Christen homself as vry kan beskou en hierdie vryheid uitleef en neerslag in instellings gee, sou egter eers stelselmatig duidelik word, met die kerk wat aanvanklik as bemiddelaar, dit wil sê as sanksioneerder van die vryheid, opgetree het. Dit is daarom nodig om kortliks die rol van die aflaat te bespreek, enersyds as premoderne institusionele skuldinvorderaar, en andersyds as innoveerder van die interne tegniek van belydenis, oftewel vryskelding.

3.4 Die oorgang van religie tot ’n ekonomiese begrip van skuld: die aflaat

Die vroeë sowel as laat Middeleeue word gekenmerk deur die sentrale posisie wat die siel in die kollektiewe bewussyn beklee het. Die kerk het toenemend beweer dat sy invloed kan uitoefen oor die siel se saligheid in die hiernamaals. Hiervoor was die vagevuur, reeds by Augustinus getematiseer, ’n belangrike hulpmiddel. Die begrip van die nadoodse ryke het, soos Le Goff (1990) aandui, mettertyd belangrike wysigings ondergaan wat belyn was met die behoeftes van die samelewing. Aanvanklik was die oorskuif van siele na beter afdelings van die hemel en die hel gereserveer vir belangrike persone. Le Goff beskryf dit as ’n verpolitisering van die hiernamaals (1990:118). Wanneer ’n spesifieke koning hoër aansien verlang het, sou die betrokke koninkryk, nadat ’n priester vir die koning se voorgeslag voorspraak gemaak het, sy invloed kon versterk. Die klassestryd waarna Marx verwys, is dus nie alleen in die aardse ryk besleg nie, maar bowenal aanvanklik deur die kerk se bemiddeling in die ryk van die hiernamaals. Enige persoon wat poog om ’n deeglike begrip van die geskiedenis te ontwikkel, moet Paulus se opmerking dat die belangrikste stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die magte in die lug, met erns oorweeg. In watter stand jy gebore is, is deur die kerk van die Middeleeue se invloed nie so belangrik as waar jou voorsate die ewigheid deurbring nie.

Die toenemende invloed van die kerk op die leer van die hiernamaals het insgelyks ook die kerk se invloed op die aardse ryk uitgebrei. Dit het die grondslag gevorm vir twee verskynsels waaruit die moderne beskawing inspirasie geput het: moderne skuldinstellings (banke, die versekeringbedryf, ens.)3 en die persoonlike skuldbelydenis (sielkunde). Selfs die onlangse begrip van historiese skuld (of ongeregtigheid), wat dui op die boetedoening vir die sondes van die voorvaders, toon sterk ooreenkoms met die vagevuur-gedagtegang.

Ofskoon die aflaat vanweë die heftige en bekende kritiek daarop bykans vergete geraak het, moet die invloed daarvan op ’n opkomende dinamiese werklikheidsbegrip van die moderniteit voorts nie gering geskat word nie. Ingevolge die Stoïsynse wêreldbeeld word ’n persoon binne ’n bepaalde stand gebore. Die Christelike begrip van transendensie het egter ’n mate van beweeglikheid toegelaat, aanvanklik by die priesterdom (deur middel van asketiese praktyk), en later by die burgery (deur middel van die aflaat). By Dante word die rol van die kerk in die louteringsproses van die siel reeds minder beklemtoon en kan die individu self nader aan God beweeg deur die praktyke van weerhouding van materiële genot, ingesteldheid op deugde, en gebed (Le Goff 1990:339). Moderne instellings soos banke gebruik juis skuld om vir mense die geleentheid te skep om besighede oop te maak en hulle sosiale toestande te verbeter. Hierdie grondslag, wat vanuit die abstrakte gelê word om die konkrete werklikheid planmatig te omvorm, het sy institusionele voorouer in die aflaat.

Ons sien vandag neer op die aflaat en die korrupsie wat daarmee gepaard gegaan het, maar dit moet wel erken word uit die voorafgaande kennismaking met die wyse waarop die mens sy sosiale omstandighede kan verbeter deur ekonomiese transaksie dat die aflaat ’n sterk rol gespeel het in die totstandkoming van die moderne wêreld. Tog, insgelyks, het die kritiek daarteen ’n bepalende rol gespeel. Die moderne wêreld sou nie sonder sy oorkoming van hierdie praktyk (wat uiteraard nie die materiële omstandighede van mense verbeter het nie, en hoofsaaklik die koffers van die kerk gevul en haar mag uitgebrei het) ontstaan het nie. Hoewel dit vandag nie meer so sterk beklemtoon word nie, was teenkanting teen die aflaat een van die sterkste dryfvere vir die Hervorming. In Luther se 95 stellings is daar heelwat oor die aflaat geskryf. Luther het in sy Vryheid van die Christenmens standpunt ingeneem daarteen dat die mens se gerigtheid tot God bemiddel word deur instellings waarin skuld afbetaal word vir geslagte wat jou voorafgaan sodat ’n afgestorwe familielid ’n beter posisie kan beklee. Persone en instellings wat sulke praktyke instel, is niks anders as “uitbuiters, verkullers, en grenslose bedrieërs” nie (Van Wyk 2019:184). Luther stel die geloof voor as die enigste daad wat ’n mens deelagtig maak aan die genade van God: “Die rede hoekom die geloof alleen regverdig maak, is dat net die geloof die Eerste Gebod, die hoofgebod, kan vervul. Die werke is dooie dinge, en kan God nie eer en loof nie, en kan daarom nie die Eerste Gebod vervul nie” (aangehaal in Van Wyk 2019:171). 

Vir die tydperk wat op Luther volg, kan hierdie woorde nie gering geskat word nie: “’n Christen is geheel en al ’n vrye heer oor alles en niemand se onderdaan nie. ’n Christen is geheel en al almal se dienende kneg en almal se onderdaan” (Van Wyk 2019:102).

3.5 Moderniteit: die selfbepaling van vryheid

Die moderniteit definieer sigself in terme van die nuwe (modus), wat ook inhou dat dit ’n breuk met die oue verteenwoordig. In hierdie geval wentel die nuwe begrip van die mens rondom ’n inherente natuur (Gattungswese), enersyds as ’n knooppunt van begeertes (Hobbes, Smith), of andersyds as ’n empatiese wese (Rousseau, Marx). ’n Oorgang word daarbenewens bewerkstellig vanaf ’n verledegesentreerde tot ’n toekomsgesentreerde ingesteldheid en instellings. Anders gestel: Die verskuldig-wees van die mens word verplaas vanaf ’n gerigtheid tot die vertikale domein van die sfere van die siele, wat deur die kerk in die vorm van die aflaat beheer is, tot die horisontale domein van die ekonomie. Dit beteken nie dat die vertikale begrip van die siel en skuld verdwyn nie; die mens se vertikale verhouding tot God word ingeskat in terme van die uitleef van sy talente in sy beroep. Weber wys op die teologiese inkleding van die begrip beroep by Luther wat die mens se woekering en werk as nog ’n domein van interaksie tussen die persoon en God beskou. Elke persoon het sy eie roeping, waarvan die maatstaf alleen die gewete kan wees, wat terselfdertyd ook ’n nuwe begrip van skuld daarstel: “De gewetensroep heeft het karakter het erzijn (Dasein) aan te roepen op zijn oereigen zichzelf-kunnen-zijn, en dat op zo’n manier dat het oproept tot het oereigen schuldig zijn.” (Heidegger 2013:358). Die begrip gewete (Gewissen) het sedert die Middeleeue nuwe betekenis verkry. By Aquinas het die begrip conscientia byvoorbeeld nie ’n roep-karaktertrek nie: “Conscience is simply practical reasoning about moral matters, and thus as fallible as any other reasoning” (Inwood 1999:37). Scientia en die aanvanklike Gewiss verwys na kennis, maar Heidegger toon aan dat in die Germaanse tale ’n verskuiwing plaasgevind het om meer klem op Wissen te plaas. Hierdie wete bring ten eerste ’n besef van Unheimlichkeit ten aansien van die das man teweeg, en tweedens “kom” die roep dan vanuit die mens se besef, nie uit die poel van verworwe kennis nie, maar uit die besef van nietigheid, sy dood. Die beperking van bestaan verleen ook telkens nuwe betekenis aan besluite wat geneem word. Die roep sê nie noodwendig dat A of B gekies moet word nie; dit laat die mens bloot nadink oor sy moontlikhede, in kritiese spanning met die das man (Inwood 1999:38).

Die individu staan sedert Luther se opstand nie meer in ’n vanselfsprekende verhouding tot instellings nie, maar in ’n gespanne een, wat Kant noem ’n “ungesellige Geselligkeit”, wat beteken dat die mens nodig het om tegelyk twee neigings te bevredig, naamlik ’n neiging tot deelname aan gemeenskap, oftewel “sich zu vergesellschaften”, asook ’n neiging tot isolering (“vereinzelnen”). Vir Kant het beide kante van die spanningsveld ’n funksie. By die gemeenskap kry ’n mens volgens Kant die geleentheid om jou talente te kultiveer, smaak te ontwikkel en deel te word van ’n verligte “moralisches Ganze” wat hom nie bloot by die bevrediging van basiese behoeftes bepaal nie; maar sonder die ander sy – die individu se neiging tot verset – sou “alle vortreffliche Naturanlagen in der Menschheit ewig unentwickelt schlummern” (Kant 1968:37). Die uitdaging van die moderne instellings is om ’n ewewig te skep tussen die geheel en die besondersheid van elke persoon.

Wetenskap het heelwat gedoen om die natuur op nuwe maniere te verken, maar het terselfdertyd ook ouer beskouinge oor die natuur in die proses dermate aangepas dat die natuur nie meer ’n betowerde geheel is nie, maar onverskillig ten opsigte van die mens se morele oorwegings staan. Daar is op verskillende maniere te werk gegaan om die implikasies van die natuurwetenskappe op die begrip van menslike samelewings van toepassing te maak. By Hobbes word gepoog om die ideale samelewing te versoen met die natuur deur eersgenoemde meganisties te beskryf. Die implikasie hiervan is dat die mens dan deterministies verskuldig staan teenoor sy natuurlike disposisie of tot maksimale uitdrukking van sy drifte gedryf word.

Uit Kant se beskrywing van die twee “neigings” hier bo kan die afleiding gemaak word dat hy hom met so ’n deterministiese beskouing vereenselwig, wat nie die geval is nie. Kant beskou die mens as ’n wese wat nie geskei kan word van sy bestaan as natuurlike wese nie, maar voeg verdere nuansering by die probleem:

[D]e zintuiglijke natuur van redelijke wezens in het algemeen is hun aan empirisch bepaalde wetten onderworpen existentie, en voor de rede dus heteronomie. De bovenzintuiglijke natuur van diezelfde wezens is daarentegen hun existentie volgens wetten die onafhankelijk zijn van alle empirische voorwaarden, en dus behoren tot de autonomie van de zuivere rede. (Kant 2015:86)

Outonomie, eenvoudig beskryf, kom daarop neer dat “die rede homself as die skepper van sy beginsels, vry van vreemde invloede, beskou” (Kant 1997:85). Etiese optrede word gewil eerder as dat dit bloot konformeer aan gegewe neigings. Vir die doel van hierdie artikel is dit belangrik om te noem dat die prikkel tot morele gedrag verskaf word deur plig, dit wil sê sollen. Dit beteken dat morele optrede sigself begryp as dit wat nie vanuit ’n boetedoening na vore tree nie, maar vanuit die vryheid. Die veronderstelling van die vryheid as eerste oorsaak by die wil is ook vir Hegel van groot belang: “Will without freedom is an empty word, while freedom is actual only as will, as subject” (Hegel 2008:6).

Dit beteken allermins dat die vryheid alleen abstrak en apaties ten opsigte van die werklikheid verstaan moet word – hoewel die sterk koppeling van vryheid aan die rede by Kant en Hegel maklik sodanige indruk kan skep. Die Duitse woord Vernunft is afkomstig van Vernehmen, wat ’n konkrete vergestalting van sy beginsel veronderstel. So ook het die Duitse begrip Freiheit betrekking op dit wat beskerm en bewaar kan word. Met hierdie agtergrond kan ons makliker begryp waarom Hegel die aktualisering van vryheid beklemtoon: Dit moet in veranderende konkrete situasies gewil word en instellings moet ingestem word tot die kultivering en onderhouding (schutzen, schonen as sinonieme vir die ou betekenis van vry wees) van die vryheid waaruit dit ontstaan. Anders gestel, aan die beginsel van vryheid moet inhoud gegee word: “De wil is echter pas werkelijk vrij indien het subjectieve doel objectief is geworden, en de inhoud van het doel niet vreemd is aan de wil, maar de wil zelf” (Verbrugge 2002:126).

Vryheid en die selfbepaling van die rede kom nie neer op ’n skuldvrye oriëntering nie, maar ’n dieper begrip van verskuldiging as dit wat onlosmaaklik met die vryheid saamhang. Vryheid en verskuldiging blyk mekaar se teenpole te wees, maar het uit die staanspoor reeds mekaar se moontlikheid ingehou. Sonder die besef van vryheid wat sigself inrig in terme van ’n begrip van verskuldig wees, vind ’n perversie van die vryheid plaas. Binne die kontemporêre konteks vind die verwringing van vryheid neerslag in ’n veredeling van adolessensie, wat verwys na ’n toestand wat verantwoordelikheid binne die verband van instellings systap en instellings as sodanig verdag maak. Hierdie verdagmaking het nie ten doel om instellings te vernietig nie, maar om instellings gedienstig te maak aan die eise van die hiperindividu. Die omkering of inversie van die ingesteldheid van die instelling as verskuldig aan die individu (waar dit vir eeue andersom was) veronderstel nie vanself ’n gesonde verhouding tussen vryheid en verskuldiging nie, maar die inversie kom neer op perversie, aangesien instellings gevange gehou word deur die eise van die individu (eintlik deur die bedryf van individualisme). Vry-wees behels dan die verskuldig-wees aan jouself en ander, die onderhouding van instellings sowel as die kritiese omgaan met beide. Dit beteken dat nóg die individu, nóg die instelling, die fundamentele verskuldig-wees sonder meer in die ander party kan opsoek, maar die verskuldiging self aanvaar in vryheid as deel van die bestaanswyse van vryheid.

 

4. Samevatting 

Skuld is ’n universele verskynsel wat verband hou met die mens se bestaan as bemiddel deur praktyke en instellings: vertikaal ten opsigte van beginsels waartoe hy gerig word, en horisontaal ten opsigte van sy persoonlike verhoudings en sy fisiese bestaan. Terselfdertyd is die uitdrukking daarvan nie eenvormig of stabiel nie, maar verander dit oor tyd, en kan ’n normatiewe begrip ontwikkel word. Sodanige begrip kan egter nie alleen moralisties interpreteer word nie, dit moet rekening hou met die mens se ingebedheid in skuld; dit wil sê, in terme van sy reeds verskuldig-wees. Die verskuldig-wees is nie noodwendig in teenstand met sy wesenlike vryheid nie – die twee kan en moet mekaar aanvul. Dit gebeur wanneer skuld begryp word as gerig tot vryheid en die vryheid sigself begryp as onlosmaaklik van skuld.

 

Bibliografie

Aristoteles. 2005. Ethica nicomachea. Eindhoven: Damon Uitgeverij.

Armstrong, K. 2006. The great transformation. New York: Random House.

Bellah, R. en H. Joas. 2012. The axial age and its consequences. Londen: Belknap Press.

Boshoff, H.J. 2019. Ekonomie en subjektiwiteit. Doktorale proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.

Calvijn, J. 1956. Institutie. Delft: W.D. Meinema. 

Critchley, S. 2009. Being and time, part 7: Conscience. The Guardian. https://www.theguardian.com/commentisfree/belief/2009/jul/20/heidegger-being-time-critchley (31 Mei 2021 geraadpleeg).

Graeber, D. 2014. Debt: the first 5000 years. Londen: Melville.

Hegel, G.W.F. 2008. Outlines of the philosophy of right. Oxford: Oxford University Press.

—. 2013. Fenomenologie van de geest. Vertaal deur Willem Visser. Amsterdam: Boom Uitgevers.

Heidegger, M. 2013. Zijn en tijd. Nijmegen: SUN.

Hobbes, T. 1985. Leviathan. Londen: Penguin Books.

Inwood, M. 1997. Heidegger. Oxford: Oxford University Press.

Kant, I. 1968. Werke, Band 7. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.

—. 1997. Fundering vir die metafisika van die sedelikheid. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, Supplementum 8. a4473. DOI: https://doi.org/10.4102/hts.v0i0.4473.

—. 2015. Kritiek van de praktische rede. Amsterdam: Boom Uitgevers.

Le Goff, J. 1990. The birth of purgatory. Cambridge: Cambridge University Press.

Mauss, M. 2002. The gift. Londen: Routledge.

Polanyi, K. 1977. The livelihood of man. New York: Academic Press.

Sizoo A. 1947. Augustinus over den staat. Kampen: J.H. Kok.

Taylor, C. 2012. What was the axial age? In Bellah en Joas (reds.) 2012.

Van Wyk, I.W.C. 2019. Martin Luther: ’n Inleiding tot sy lewe, denke en geskrifte. Kaapstad: AOSIS.

Verbrugge, A.M. 2002. De idee van de vrijheid in Hegels staatsfilosofie. Amsterdam: Boom Uitgevers.

Weber, M. 2014. Die Protestantische Ethik und der Geist des Kapilalismus. (Kindle-weergawe.) e-artnow.

 

Eindnotas

1 Die hipotese dat ekonomiese handel in die vorm van ruilhandel die grondslag vorm en later deur die sosiale kontrak gerugsteun word, is reeds in Marcel Mauss se bekende teks The Gift weerlê: “There has never existed, either in an era fairly close to our own, or in societies that we lump together somewhat awkwardly as primitive or inferior, anything that might resemble what is called a ’natural’ economy” (Mauss 2002:6).

2 Hegel se begrip Anerkennung soos dit in arbeidsverhoudinge en binne die breër samelewing ontwikkel, bied insig in die rykheid van die begrip erkenning (Hegel 2013).

3 Die instellings van banke en die kerk was reeds rondom die Kerkhervorming belyn: “Een manier hoe daar vir aflate betaal is, was om op ’n pelgrimstog te gaan en dan teen betaling in die nabyheid van relikwieë te verkeer. Talle persone en instellings het finansiële voordeel uit hierdie praktyk getrek soos die keurvors, die familie Fugger in Augsburg wat banke besit en geld aan die pelgrims geleen het, asook die biskoppe van hierdie gebied” (Van Wyk 2019:185).

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Oor skuld en vryheid appeared first on LitNet.

Viewing all 796 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>