Quantcast
Channel: LitNet Akademies - LitNet
Viewing all 796 articles
Browse latest View live

LitNet Akademies: Volledige joernaaluitgawes

$
0
0

Jaargang 16, Nommer 3 – 2019

Afdeling: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

Afdeling: Opvoedkunde

Afdeling: Regte

 

Jaargang 16, Nommer 2 – 2019

Afdeling: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

Afdeling: Opvoedkunde

Afdeling: Regte

 

Jaargang 16, Nommer 1 – 2019

Afdeling: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

Afdeling: Opvoedkunde

Afdeling: Regte

 

Jaargang 15, Nommer 3 – 2018

Afdeling: Natuurwetenskappe

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

Afdeling: Opvoedkunde

Afdeling: Regte

Jaargang 15, Nommer 2 – 2018

Afdeling: Natuurwetenskappe

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

Afdeling: Opvoedkunde

Afdeling: Regte

 

Jaargang 15, Nommer 1 – 2018

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

Afdeling: Opvoedkunde

Afdeling: Regte

 

Jaargang 14, Nommer 3 – 2017

Afdeling: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

Afdeling: Opvoedkunde

Afdeling: Regte

 

Jaargang 14, Nommer 2 – 2017

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

Afdeling: Opvoedkunde

Afdeling: Regte

 

Jaargang 14, Nommer 1 – 2017

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

Afdeling: Opvoedkunde

Afdeling: Regte

 

Jaargang 13, Nommer 3 – 2016

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

Afdeling: Opvoedkunde

Afdeling: Regte

 

Jaargang 13, Nommer 2 – 2016

Afdeling: Natuurwetenskappe

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

Afdeling: Opvoedkunde

Afdeling: Regte

 

Jaargang 13, Nommer 1 – Mei 2016

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

Afdeling: Opvoedkunde

Afdeling: Regte

 

Jaargang 12, Nommer 3 – Desember 2015

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

Afdeling: Natuurwetenskappe

Afdeling: Opvoedkunde

Afdeling: Regte

 

Jaargang 12, Nommer 2 – Augustus 2015

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

Afdeling: Opvoedkunde

Afdeling: Regte

Afdeling: Natuurwetenskappe                                 

 

Jaargang 12, Nommer 1 – April 2015

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

Afdeling: Opvoedkunde

Afdeling: Regte

 

Jaargang 11, Nommer 3 – Desember 2014

Afdeling: Natuurwetenskappe

Afdeling: Regte

Afdeling: Godsdienswetenskappe

Afdeling: Opoedkunde

Afdeling: Geesteswetenskappe

 

Jaargang 11, Nommer 2 – Augustus 2014

Afdeling: Natuurwetenskappe

Afdeling: Regte

Afdeling: Godsdienswetenskappe

Afdeling: Geesteswetenskappe

 

Jaargang 11, Nommer 1 – Maart 2014

Afdeling: Regte

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

 

Jaargang 10, Nommer 3 – Desember 2013

Afdeling: Regte

Afdeling: Natuurwetenskappe

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

 

Jaargang 10, Nommer 2 – Augustus 2013

Afdeling: Regte

Afdeling: Natuurwetenskappe

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

 

Jaargang 10, Nommer 1 – Maart 2013

Afdeling: Regte

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

 

Jaargang 9, Nommer 3 – Desember 2012

Afdeling: Natuurwetenskappe

Afdeling: Regte

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

 

Jaargang 9, Nommer 2 – Augustus 2012

Afdeling: Natuurwetenskappe

Afdeling: Regte

Afdeling: Geesteswetenskappe

 

Jaargang 9, Nommer 1 – Maart 2012

Afdeling: Natuurwetenskappe

Afdeling: Regte

Afdeling: Geesteswetenskappe

 

Jaargang 8, Nommer 3 – Desember 2011

Afdeling: Geesteswetenskappe

 

Jaargang 8, Nommer 2 – Augustus 2011

Afdeling: Natuurwetenskappe

Afdeling: Geesteswetenskappe

 

Jaargang 8, Nommer 1 – Maart 2011

Afdeling: Geesteswetenskappe

 

Jaargang 7, Nommer 3 – Desember 2010

Afdeling: Natuurwetenskappe

Afdeling: Geesteswetenskappe

 

Jaargang 7, Nommer 2 – Augustus 2010

 

Jaargang 7, Nommer 1 – Maart 2010

 

Jaargang 6, Nommer 3 – Desember 2009

 

Jaargang 6, Nommer 2 – Augustus 2009

 

Jaargang 6, Nommer 1 – Maart 2009

 

Jaargang 5, Nommer 3 – Desember 2008

 

Jaargang 5, Nommer 2 – Oktober 2008

 

Jaargang 5, Nommer 1 – Augustus 2008

 

The post <i>LitNet Akademies</i>: Volledige joernaaluitgawes appeared first on LitNet.


Wat maak ’n wynfees suksesvol? Die Robertsonvallei-storie

$
0
0

Wat maak ’n wynfees suksesvol? Die Robertsonvallei-storie

Engelina du Plessis, Skool vir Toerismebestuur, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)

LitNet Akademies Jaargang 17(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Die doel van hierdie navorsing was om die mededingende faktore en sleutelaspekte te bepaal wat wynplaaseienaars en -bestuurders nodig ag om ’n suksesvolle wynfees aan te bied, met spesifieke verwysing na Wacky Wine en Wine on the River wat jaarliks in Robertson in die Wes-Kaap, Suid-Afrika, aangebied word. Die rede vir hierdie ondersoek is dat die meerderheid wynplase in die omgewing aan beide feeste deelneem, wat ’n groot kapitaaluitleg tot gevolg het. Die vraag ontstaan dus of dit werklik die moeite werd is om aan albei feeste deel te neem en wat volgens wynplaaseienaars nodig is om een suksesvolle wynfees aan te bied. Die uniekheid van die twee feeste is gebruik as agtergrond waarop hierdie menings gebou is. Om die doel van die studie te bereik is onderhoude met die eienaars en bestuurders van nege van die wynplase in die Robertsondistrik gevoer. Die menings van hierdie respondente met betrekking tot sleutelsuksesfaktore is bepaal. Resultate dui daarop dat die regte mark, ’n verskeidenheid produkte en ’n persoonlike-diens-aanslag van die belangrikste faktore is wat aanleiding gee tot ’n suksesvolle wynfees wat volhoubaar is. Die resultate sal wynfeesorganiseerders in staat stel om beter bestuursbesluite te neem ten opsigte van bemarking, produkte gekoppel aan die fees, die program en die algemene bestuur daarvan.

Trefwoorde: mededingendheid; sleutelsuksesfaktore; toeristebestemming; volhoubaarheid; wynfeeste

 

Abstract

What makes a wine festival successful? The Robertson Valley story

The purpose of this research was to determine the competitive factors and critical aspects that wine farm owners and managers deem necessary to host a successful wine festival, with specific reference to Wacky Wine and Wine on the River, which are held annually in Robertson, Western Cape, South Africa. The reason for this investigation is that the majority of wine farms in the area participate in both festivals, resulting in a large capital outlay. The question, therefore, exists whether it is worthwhile to participate in both festivals and what they believe is necessary to present one successful wine festival. The uniqueness of the two festivals provides the background against which these opinions were formed. Interviews were conducted with the owners and managers of nine wine farms in the Robertson district. The opinions of these respondents regarding critical success factors were determined. Results indicate that the right market, a variety of products, and a personal service approach are some of the most vital factors that lead to a thriving and sustainable wine festival. The results will allow wine festival organisers to make better management decisions regarding marketing, products linked to the festival, the programme, and general management.

Keywords: competitiveness; critical success factors; sustainability; tourist destination; wine festivals

 

1. Inleiding

Wyntoerisme het oor die afgelope paar jaar baie aandag geniet, beide binne die akademiese en die bedryfswêreld, weens die positiewe impak wat dit op bestemmings het (Sevil en Yuncu 2009). Verskeie wyngebiede gebruik toerisme om hul wyne te bemark en bewustheid te skep vir hul produkte asook om ’n bydraende inkomste vir wynplase te bewerkstellig (George 2006). As gevolg van hierdie feit groei wyntoerisme wêreldwyd en word dit gesien as ’n belangrike ekonomiese en sosiale drywer (Ferreira en Hunter 2017). 

Wyntoerisme is deel van agritoerisme weens die duidelike plasing binne alternatiewe- of nistoerismesektor (Carmichael 2005). Hall en Macionis (1998:267) definieer die wese van wyntoerisme as “’n besoek aan wynplase, wingerde, wynkelders, wynfeeste en wynskoue vir wynproe en/of die belewing van eienskappe van druiwe en die wyndistrik wat as primêre doel van die besoeker dien”. ’n Meer omslagtige definisie van wyntoerisme sou verwys na verskeie toerismeprodukte binne die wyndistrik wat ’n unieke ervaring bied aan besoekers en sluit in: wyn, restaurante, kulture, kuns, opvoeding en reis (Dowling 1998), asook die fokus op die landskap, aantreklikhede, geskiedenis en erfenis en die wynproduksieproses (Van Westering 1999). Hierdie definisies leen hulle daartoe dat wyntoerisme ook deel uitmaak van verskeie ander vorme van toerisme, en meer spesifiek van feeste as deel van gebeurtenistoerisme, soos in Figuur 1 uiteengesit.

Figuur 1: Skematiese voorstelling van die plasing van wyntoerisme binne die toerismebedryf (Skrywer se eie samestelling) 

Die aanbieding van feeste is een manier waarop wynplaas-bemarkers, -bestuurders en -bestemmingsbemarkers kan fokus om hierdie sektor te ontwikkel en te laat groei. Feeste en gebeurtenisse was nog altyd ’n belangrike element in mense se lewens en hierdie neiging word versterk deur die vinnige groei van die fees-en-gebeurtenis-sektor in die toerismebedryf wêreldwyd en veral ook in Suid-Afrika (Du Plessis, Slabbert en Saayman 2017). Gebeurtenistoerisme het een van die belangrikste middele van die ontwikkelingstrategieë van baie dorpe en stede geword en is dikwels daarop gemik om as drywer vir verdere ekonomiese ontwikkeling te dien (Visser 2005:155). 

Die toenemende belangrikheid van feeste word ook in Suid-Afrika ervaar. Dit kan toegeskryf word aan die toenemende behoefte wat mense toon om verskillende kunsvorme, kultuurervarings, tale en tradisies te ervaar (Pissoort en Saayman 2007:255). Suid-Afrika se toerismebedryf bied meer as 600 feeste, en elkeen is uniek volgens die omgewing, besoekende mark, primêre doel van die fees en die bestuurstelsel van elke fees (Kruger en Saayman 2012:147; Getz 2008:404).

Organiseerders en bemarkers beleef verskeie uitdagings om die sukses van hul feeste te verseker en om mededingend te bly (Du Plessis, Saayman en Griffel 2014; Kruger en Saayman 2012:148). Navorsing deur Kruger en Saayman (2012), Slabbert en Viviers (2011) en Botha en Viviers (2012) het aangedui dat verskeie van hierdie feeste binne die Suid-Afrikaanse konteks primêr om dieselfde mark meeding. Om gesond mee te ding en volhoubare groei te verseker is dit van die uiterste belang dat die betrokke rolspelers inligting moet bekom rakende unieke faktore wat mededingendheid verhoog, sleutelsuksesfaktore en die toerismemark. Dit sal hulle dan daartoe in staat stel om hierdie faktore suksesvol te bestuur.

 

2. Agtergrond en doel van hierdie navorsing

Feeste en gebeurtenisse word dikwels gebruik om uitdagings waardeur die meeste bestemmings in die gesig gestaar word, byvoorbeeld deurdat hulle onbekende besienswaardighede en toerismeprodukte en seisoenaliteit moet bestuur en minimaliseer, te oorkom. Hierbenewens word gebeurtenisse of feeste aangewend en aangebied ter bevordering van die bemarking van verskillende bestemmings. Die feeste dien as ’n aantrekking, bou gemeenskapstrots en -identiteit en bevorder stedelike vernuwing, kultuurontwikkeling en volkseie. Dit bevorder die beeld van die bestemming en dien ook dikwels as katalisator ter bevordering van kultuuraktiwiteite wat feeste en gebeurtenisse as ’n toerismeproduk onderskei (Getz 2008:403–6). Die ekonomiese en sosiale voordele van feeste en gebeure maak reeds deel uit van die onderwerpe van vele navorsingsprojekte (Daniels en Norman 2003; McHone en Rungeling 1999; Crompton, Lee en Shuster 2001; Goldblatt 2002; Allen, O'Tool, McDonnell en Harris 2005; Van Niekerk en Coetzee 2011:348), wat daarop dui dat feeste en gebeurtenisse ’n belangrike rol speel ter bevordering van gebiede en dorpe ten opsigte van die verbetering van infrastruktuur en bemarkingstrategie asook ter bevordering van plaaslike en organisatoriese bestuursvermoëns (Getz 2003:2). Die aanbied van feeste is een manier om die ekonomie te bevorder en ’n positiewe sosiale impak te bewerkstellig (Van Niekerk en Coetzee 2011:352). Alhoewel feeste en toerismemarkte nasionaal en streeksgewys van mekaar geskei is, is die grense tussen nasionale toerismebesighede, -produkte en -bestemmings in die afgelope dekades geneig om te verdwyn en almal ding mee om dieselfde mark, wat ’n mededingende voordeel in gevaar stel (Navickas en Malakauskaitė 2009:37).

Een manier waarop hierdie probleem onder die loep geneem kan word, is deur ’n beter begrip te verkry van die mededingendheidsfaktore, wat bestuurders insig kan gee in hoe om vraag en aanbod te balanseer en ’n beter produk of diens te lewer wat uniek is tot elke fees. Om as ’n fees mededingend te wees is om ’n unieke produk en ervaring te bied. Dit kan bereik word alleenlik as organiseerders, bemarkers en bestuurders tred hou met veranderinge in toeriste se behoeftes. Die eise van globalisering sowel as dié van ’n gesofistikeerde bedryf, en die verskillende faktore wat daartoe bydra, moet ook in ag geneem word (Crouch en Ritchie 2000; Poon 1993; Lickorish 1991).

Mededingendheid is ’n omvattende begrip, en navorsers ontwikkel elke dag nuwe strategieë en modelle om hierdie begrip beter te definieer en te omskryf. Vir Michael Porter (1990), Ritchie en Crouch (1993) en Crouch en Ritchie (2000), wat beskou word as die leiers op die gebied van navorsing oor mededingendheid, gaan mededingendheid oor die soeke na ’n gunstige mededingende posisie wat winsgewendheid en volhoubaarheid bevestig ten spyte van eksterne faktore (Porter 1985; Crouch en Ritchie 2000). Hierdie navorsers waarsku dat mededingendheid sonder volhoubaarheid ’n illusie is. Om mededingend te wees, moet ’n bestemming se toerisme-ontwikkeling volhoubaar wees, nie slegs ekonomies nie, maar ook ekologies, sosiaal, kultureel en polities. Daar kan dus aangevoer word dat die mees mededingende bestemming die een is wat die volhoubare welstand van die inwoners in ag neem.

Mededingendheid is egter ’n komplekse verskynsel wat uit verskillende oogpunte geanaliseer moet word, wat die vraag-en-aanbod-kant van produkte insluit. Porter (1993) het die produksiefaktore beskryf as die belangrikste insette wat nodig is om in enige bedryf mee te ding en globale mededingendheid te handhaaf. Hy maak dit duidelik dat dit slegs die kombinasie van hierdie faktore is wat van produk tot produk en van bedryf tot bedryf verskil. Die geheim is egter om die regte mengsel van faktore te gebruik om mededingendheid te verseker. Ritchie en Crouch (1993) het die uniekheid van die toerismebedryf beklemtoon deur mededingende faktore te identifiseer wat meer gegrond is op die dienservaring, in teenstelling met die produksiefaktore wat Porter as prioriteit stel. Ritchie en Crouch (1993) bespreek ’n paar faktore wat as belangrik beskou word om globale mededingendheid te bepaal, naamlik: waarde (waarde vir geld, waarde en toepaslikheid); kwaliteit (kwaliteit van diens, kwaliteit en egtheid van die ervaring, kwaliteit van die fisiese instellings); en miskien die belangrikste faktor: om die konteks te verstaan wat toeriste van mekaar onderskei en toerismeprodukte uniek maak (Hu en Richie 1993).

Die identifisering en evaluering van die mededingende faktore rakende toerisme en bestemmings is ’n algemene navorsingsprobleem (Navickas en Malakauskaitė 2009:37). Namate toerismemarkte groei en die belangrikheid van verskillende sektore vir toerisme ontwikkel, word bogenoemde navorsingsprobleme meer betekenisvol en meer spesifieke navorsingsbenaderings tot die unieke produk of bestemming noodsaaklik. Alhoewel verskeie studies gefokus het op bestemmings en mededingende faktore in toerisme, was min spesifiek gerig op die mededingende faktore van feeste en gebeurtenisse. Daar is dus nog onsekerheid oor die mededingendheidsfaktore van produkte binne toerisme en veral wyngerigte feeste binne Suid-Afrika.

Mededingendheidsfaktore is egter nie die enigste noodsaaklike bestanddeel vir die volhoubaarheid van toerismeprodukte (in hierdie geval feeste) nie, en is verder ook onderworpe aan interne en eksterne faktore, die bestuur van sleutelsuksesfaktore, die bepaling en ontwikkeling van die korrekte teikenmark en soveel meer (Marais, Du Plessis en Saayman 2016). Wat bydra tot hierdie dilemma, is dat daar nie ’n resep is wat vir alle toerismeprodukte gebruik en geïmplementeer kan word nie. Wynfeeste verskil byvoorbeeld van musiekfeeste, kunstefeeste en kultuurfeeste. Vir besighede om te oorleef in ’n uiters mededingende mark, is goeie bestuur van groot belang (Page 2003:249), en dit kan slegs met genoegsame inligting oor die betrokke fees en produk plaasvind.

Wynfeeste is deel van wyntoerisme, wat gedefinieer word as die ontwikkeling en bemarking van wynplase en distrikte wat gebou is op die vraag na wyn (Getz en Brown, 2006:79; O’Neill en Palmer 2004:272). Getz (2000) beskryf wyntoerisme vanuit drie perspektiewe; dié van die verbruiker, die wynkelder of wynplaas en die omgewing en gebied wat gekoppel is aan die vraag na wyn, en die aktiwiteite daarom heen. Toerisme is dus belangrik vir hierdie rolspelers waar feeste ’n groot rol in hierdie verband speel (Kruger en Saayman 2010). William en Dossa (2003:28) voeg by dat wynfeeste verbruikers na die wynbestemmings kan lok wanneer die distrikte hoë seisoenaliteit beleef met betrekking tot besoekers en ook ’n rol kan speel ter bewusmaking van die bestemming en dienste wat markposisionering vir wynprodusente en toerismebesighede kan verseker. Ter ondersteuning van laasgenoemde het Yuan en Jang (2008:279) verduidelik dat besoekers ’n positiewe beeld vorm wanneer hulle ’n aangename ervaring by ’n fees beleef, wat dan aanleiding daartoe kan gee dat die besoekers lojale besoekers word.

 

3. Gevallestudie: Wine on the River en Wacky Wine

Wine on the River en Wacky Wine is beide feeste wat jaarliks in die vallei van die Wes-Kaapse Karoodorp Robertson aangebied word. Robertson is in die Breederiviervalleistreek geleë en in 2019 het 46 wynplase langs Roete 62 bygedra tot die vallei se wynproduksie. Die feeste bied plaaslike wynkelders die geleentheid om hul spogwyne ten toon te stel. Die feeste word deur een instansie gereël en bestuur onder toesig van die plaaslike deelnemende wynkelders en -plase.

Wine on the River is die jongste van die twee feeste. Dit het in 2005 ontstaan en word op die oewer van die Breërivier gehou, op ’n feesterrein spesiaal afgebaken vir die tydperk van die fees. Toegangsfooie word gehef in die vorm van ’n dagtoegang- of ’n naweekkaartjie. Die kaartjie sluit in toegang tot die eksklusiewe terrein en die kans om van die vallei se wyne te proe. Die kelders wat deelneem, kan hul wyne tentoonstel en vyf wyne aan elke besoeker skink vir proe. Gedurende die fees is daar kosstalletjies en vermaak wat vir besoekers aangebied word. 

Die fees ding mee met sy susterfees, Wacky Wine, wat vroeër in die jaar gedurende herfs plaasvind. Wacky Wine het in 2004 ontstaan en het ’n unieke vorm aangeneem deur nie ’n spesifieke feesterrein te gebruik nie maar eerder die totale vallei. Wynplase en -kelders is die keuse gegun om dan aan die drie dae se verrigtinge deel te neem waartydens besoekers van een plaas na die volgende kan ry om die wyne op die plaas of kelder self te proe. Slegs ’n paar jaar na die ontstaan daarvan word die Wacky Wine-fees as die grootste streekswynfees in Suid-Afrika beskryf, met meer as 16 076 besoekers in 2009. ’n Opmerklike diens is die fees se Buddy Bus Shuttle, wat in 2009 begin is om ’n verantwoordelike bydrae te lewer tot, en aan te sluit by, die nasionale veldtog van “moenie drink en bestuur nie”. Toegang tot en gereguleerde deelname aan die fees is deur die jare aangepas tot die hede waar besoekers ’n wynpaspoort koop vir die naweek met kaartjies om ’n aantal wyne per plaas te proe.

Na verskeie jare waarin beide feeste deel uitgemaak het van die kalenderjaar se gebeurtenisse van die Robertsonvallei, het die vraag ontstaan of die kompetisie tussen die twee feeste die bestaansreg van een van die feeste in die weegskaal bring. Verhoogde kostes om as uitstaller aan beide hierdie feeste deel te neem, dwing wynplase om die waarde van die blootstelling te herevalueer en ’n keuse tussen die twee feeste te maak. As die bestuurders van die wynplase en organiseerders van Wine on the River en Wacky Wine ingelig kon word oor hoe om die mededingende voordeel van die fees te verhoog en in staat gestel kon word om ’n lojale mark te waarborg, sou die beleggingsopbrengs geregverdig kon word.

Bestuurders word gekonfronteer met ’n toerismemark wat beter ingelig is as voorheen en die feit dat toeriste soortgelyke produkte vergelyk ten einde ’n beter keuse te maak ten opsigte van ervaring, waarde vir geld, kwaliteit en diens (Phakdisoth en Kim 2007:226). Navorsing moet nie aandag skenk net aan die besoekers se persepsies en voorkeure om sodoende volhoubaar te wees nie, maar ook aan die persepsies van produsente en diensverskaffers rakende mededingendheid, om beter praktyke daar te stel. Dit is belangrik dat die bestuurders van feeste ingelig moet wees oor die spesifieke sleutelsuksesfaktore, sowel as die onderskeie feeste se unieke faktore wat bydra tot mededingendheid en volhoubaarheid.

Alhoewel bogenoemde feeste tot dusver suksesvol was, word daar met verskeie wynfeeste in die Wes-Kaap en met mekaar meegeding. Vandaar die reeds genoemde vraag of dit die moeite werd is om as wynplaas aan beide feeste deel te neem. Is daar nog ’n bestaansreg vir beide die feeste in dieselfde vallei? Dit het duidelik geword dat die twee feeste met mekaar vergelyk moet word en die opinies van die deelnemers aan hierdie feeste bepaal moet word deur die volgende te ondersoek: 

  • Aanbevelings rakende die bestuur van die plaas ten opsigte van die feeste. Met ander woorde, die sleutelsuksesfaktore om die fees beter te bestuur.
  • Die mededingende faktore van wynfeeste.
  • Unieke faktore wat bydra tot die sukses van die fees.

 

4. Navorsingsmetode

Soos reeds genoem, het hierdie navorsing gefokus op die Wine on the River- en Wacky Wine-feeste wat in die Robertsonvallei aangebied word. Die doel van die feeste is om besoekers aan die wyne van die vallei bekend te stel en terselfdertyd die besoeker die geleentheid te gun om aan aktiwiteite, avontuur, gesinspret en musiek deel te neem.

Die navorsingsmetode het beide ’n literatuurstudie en ’n empiriese studie ingesluit. Dit het die navorsers in staat gestel om die doelwitte en beoogde uitkomste van hierdie studie te bereik.

Die studie het die kwalitatiewe navorsingsmetodologie aangewend, en ’n semigestruktureerde-onderhoud-gids is gebruik om data van nege deelnemers in te samel; die deelnemers was eienaars en bestuurders van wynplase in die Robertsonvallei. Tematiese analise met behulp van Creswell se ses stappe is vir data-ontleding gebruik. 

Die literatuurstudie was gebaseer op verskeie bronne om die nodige inligting in verband met hierdie studie te bekom. Dit sluit in: akademiese handboeke, konferensiedokumente, verhandelings en proefskrifte, akademiese tydskrifte en ander toerismeverwante literatuur, om slegs enkeles te noem. Elektroniese databasisse soos SA ePublications, Google Books, Google Scholar en EBSCOhost is gebruik om inligting in te samel.

Ongeveer ’n kwart van die plase wat aan die wynfeeste deelneem, is besoek, wat verteenwoordigend van die populasie is. Die steekproef het op nege plase in die Robertsonvallei betrekking gehad. Die respondente was bestuurders of eienaars wat gewillig was om aan die studie deel te neem. 

Om die doelstellings van hierdie studie te bereik is ’n onderhoudgids deur TREES (Tourism Research in Economic and Environs Society) by die Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus, ontwikkel in samewerking met die organiseerders van die feeste. Onderhoude van min of meer 30–45 minute is gedurende Desember 2018 met die respondente geskeduleer en op die plase van die onderskeie produkeienaars gevoer. Die doel van die studie is aan al die respondente verduidelik om te verseker dat hulle vrywilliglik en eerlik aan die projek sou deelneem. Die afdeling oor mededingendheid was gebaseer op die werk van Du Plessis (2002), Mangion e.a. (2005) en Ritchie en Crouch (1993) en is vir die wynfeeste aangepas.

Die onderhoudgids bestaan uit die volgende afdelings:

  • Aanbevelings ten opsigte van die fees (sleutelsuksesfaktore)
  • Die mededingende faktore van wynfeeste
  • Unieke faktore wat tot die sukses van die fees bydra.

 

5. Resultate en aanbevelings ten opsigte van die betrokke fees 

Die resultate word weergegee met betrekking tot die profiel van die betrokke fees. 

5.1 Demografiese profiel

Dit blyk duidelik uit die resultate dat die meerderheid respondente reeds langer as 10 jaar by beide die feeste betrokke is (Respondente 1, 2, 4, 5 en 8). Slegs drie van die wynplase het ’n restaurant op die perseel (2, 5 en 7) as alternatiewe produkte en vier van die wynplase bied akkommodasie (2, 3, 5 en 6). Met die uitsondering van Respondente 1 en 4 bied die meerderheid plase wynproe en verkope op die plaas aan.

5.2 Aanbevelings ten opsigte van sleutelsuksesfaktore van die wynfeeste

5.2.1 Wat moet verander ten opsigte van Wacky Wine? Sleutelsuksesfaktore

Die mark moet heroorweeg word na ’n meer gesofistikeerde en ouer mark (1, 2 en 3) of die fees moet herverpak (“rebranded”) word (1 en 2). Dit blyk uit die terugvoer van sommige respondente (1, 4, 6, 7 en 9) dat die kaartjies- en koeponstelsel moet verander om dit meer toeganklik te maak asook om meer beheer uit te oefen. Ander aanbevelings was gefokus op vervoeralternatiewe of om die fees op ’n sentrale plek te hou (3 en 4), en op ander produkte, soos musiek (respondent 1). Die beheer van die wynproe- en feestye is ook genoem (1, 5, 6 en 9). Die huidige mark is vir die meeste van die respondente ’n probleem en hulle sal ’n meer gesofistikeerde mark wou trek.

5.2.2 Wat moet verander ten opsigte van Wine on the River? Sleutelsuksesfaktore

Verskillende opinies oor die fees was duidelik uit die onderhoude, en respondent 2 was van mening dat die fees kan wegval. Die mark en bemarking was ook onder bespreking, soos ook in die geval van Wacky Wine, en daar is gevoel dat op ander markte gefokus moet word deur dalk die beeld ook te verander (1, 3, 4, 5, 9). Die beheer van die wynproe (1, 6, 8), sekuriteit, logistiek en alternatiewe produkte tel ook onder die aanbevelings wat gemaak is (1, 4, 6, 7).

Dit is duidelik dat respondente se aanbevelings aansluit by literatuur wat aandui dat wynplase die potensiaal van toerisme en feeste herken as ’n koste-effektiewe alternatief vir verkope en bewusmaking om wyne sowel as die bestemming te bemark. Dit mits die regte mark getrek word en die regte strategie gevolg word met beeldvorming van die feeste (Dodd 1995; Fuller 1997; Wargenau en Che 2006:4). Saayman en Krugell (2009) het ook aangedui dat alternatiewe produkte en dienste feeste se populariteit verhoog. 

5.3 Mededingende faktore 

Uit die resultate wat die mededingendheidsfaktore aandui, is die volgende temas geïdentifiseer as synde belangrik by ’n wynfees:

5.3.1 Tema/Faktor 1: Verskeidenheid van produkte

Dis duidelik dat ’n verskeidenheid produkte aanleiding kan gee tot ’n mededingende voordeel (respondente 1, 2, 4, 5, 6, 7 en 9). Hierdie verskeidenheid kan aangedui word in ’n program wat ’n variasie van produkte aandui, en pakkette kan musiek, bootritte op die rivier en “maak jou eie etikette vir jou bottel” insluit, om slegs enkeles te noem (Kruger en Saayman 2010). Navorsers (Getz en Brown 2006; Byrd, Canziani, Hsieh, Debbage en Sonmez 2016) het dit duidelik in die literatuur gestel dat alternatiewe produkte wat wyntoerisme ondersteun, belangrik is vir die volhoubaarheid van wynplase as deel van die toerismeproduk. Produkte sluit in: ’n proelokaal, opvoedkundige praatjies, vermaak en feeste, gasvryheidprodukte (akkommodasie en restaurante), wynklubs en wyntoere. Unieke produkte sal ook tot hierdie tema bydra (1, 3 en 9).

5.3.2 Tema/Faktor 2: Waarde vir geld

In die moeilike finansiële omgewing is prys altyd ’n belangrike faktor en die persepsie dat verbruikers waarde vir hul geld kry, is belangrik (Du Plessis, Slabbert en Saayman 2016). Respondente 3, 4, 6, 7 en 8 het aangedui dat toegangsprys, waarde vir geld en kwaliteit belangrik is. Waarde vir geld is die waarde wat ’n toeris toeken aan die regte prys wat betaal is vir die kwaliteit van diens en produkte wat ontvang is (Weaver, Weber en McCleary 2007:334; Lovelock 2000:41; Cant 2005:6; Sweeney en Soutar 2001:203; Du Plessis en Saayman 2015:15).

5.3.3 Tema/Faktor 3: Gasvryheid en persoonlike ervaring

Gasvryheid ondervang belangrike konsepte, soos vriendelike personeel, persoonlike diens en persoonlike verhoudings (2 en 4). Persoonlike ervaring is gebaseer op die aanvanklike motivering om die wynfees by te woon wat faktore insluit soos: om te ontspan, saam met familie en vriende te kuier, iets nuuts te leer en wyn te proe en te koop (Carmichael 2005). Verbruikers/toeriste evalueer die toerisme-ervaring deurlopend, wat op verskillende vlakke geskied (Gronroos 1990).

5.3.4 Tema/Faktor 4: Mark 

Om die regte beeld vir die fees te ontwikkel en die regte mark na die fees te trek is deur sommige respondente (1, 5, 7, 8 en 9) as baie belangrik beskou om ’n volhoubare wynfees te hou. Die motief van wynplaaseienaars om deel te neem aan wynfeeste is primêr om hul wyne in die toekoms bekend te stel en ’n groter mark vir hul produk te skep (Yuan en Jang 2008:286). Die fees dra by tot hierdie potensiële markvoordeel. 

5.4 Unieke faktore wat bydra tot die sukses van die fees

Dit is geen verrassing nie dat al die respondente aangedui het dat die gehalte van die wyn die belangrikste faktor vir enige wynfees is. Respondente 1, 4 en 5 het natuurskoon genoem as die unieke faktor (wat hulle, interessant genoeg, nie aangedui het by mededingende faktore of as deel van die sleutelaspekte nie). Persoonlike diens en alternatiewe produkte is deur 7 uit die 9 respondente aangedui as die unieke faktor wat hand aan hand loop met die wyn.

 

6. Bevindinge en aanbevelings 

Die volgende bevindinge en aanbevelings is uit die resultate gemaak: Dit is duidelik dat verskeie opinies oor die feeste bestaan. Groter kelders fokus meer op die voordele wat die feeste ten opsigte van bemarking, verkope en bewusmaking bied. Die kleiner kelders is meer gefokus op die finansiële aspekte, aangesien dit elke jaar vir hulle ’n geweldige uitleg van kapitaal inhou. As organiseerders van beide die feeste moet daar gepoog word om die impakte van die feeste duidelik te kommunikeer. Die feeste het bygedra tot die bewusmaking van Robertson as wynstreek en as ’n toerismebestemming. Die opbrengs op die aanvanklike kapitale uitleg sal nie dadelik gesien word nie, maar met verdere navorsing kan gewys word hoe verbruikers se aankoopgedrag ten opsigte van wyn beïnvloed is as gevolg van die feeste. 

Die tweede bevinding is dat al die respondente sterk voel oor die huidige markte van die fees. Die gevoel is dat die beeld van die fees moet verander om ’n ouer, meer gesofistikeerde mark, veral by Wacky Wine, te trek. Gebaseer op al die vorige jare se data sal die aanbeveling wees dat die mark geanaliseer moet word om vas te stel hoe die mark oor tyd heen verander het. Om beter bemarking vir ’n spesifieke mark te doen is dit belangrik om die ouer mark se reismotiewe vas te stel. Effektiewe bemarkingstrategieë van bemarkingsagentskappe, gegrond op die behoeftes van die produkeienaars, kan verder ontgin word om sodoende ’n nuwe mark vir die feeste te ontwikkel. Die resultate het getoon dat die meerderheid respondente die ontwikkeling van alternatiewe markte vir beide die feeste voorstel.

Derdens is vier wynfeesmededingendheidsfaktore geïdentifiseer, naamlik verskeidenheid van produkte, waarde vir geld, gasvryheid en persoonlike ervaring en mark. Die les uit hierdie navorsing is dat alhoewel daar nie nuwe faktore ontgin is vir mededingendheid nie, elke toerismeproduk uniek is, en dat hierdie eienskappe of samestelling van hierdie faktore van die wynfeeste verder ontgin en ondersoek moet word vir ’n fees om meer mededingend te wees. 

Die laaste bevinding is dat die belangrikste faktor van mededingendheid by wynfeeste die alternatiewe dienste en produkte is wat bydra tot die uniekheid van die fees. Dit blyk duidelik uit die resultate dat daar geleenthede vir entrepreneurs van die omgewing is vir die bied van kos, vermaak en vervoer gedurende hierdie feeste, en hierdie navorsing kan riglyne bied ten opsigte van die besigheidskonsepte van hierdie geleenthede. Bogenoemde kan lei tot ’n verhoogde wins vir die plaaslike wynplase en beter bestuursteorie om die waarde van die fees te verhoog, tot voordeel van die wynplaas as deelnemer en uitstaller by die fees.

 

7. Ten slotte 

Wacky Wine en Wine on the River is twee unieke feeste wat in dieselfde vallei aangebied word, min of meer dieselfde mark trek en dieselfde wynplase insluit as uitstallers by of deelnemers aan die feeste. Die formaat van die feeste verskil in terme van die ligging en logistiek, wat die uniekheid aan elke fees verleen. Die vraag is egter of albei feeste wel bestaansreg het en wat wynfeeste mededingend maak volgens die wynplase wat aan hierdie twee feeste deelneem. Die respondente is dit wel eens dat die mededingende faktore onder andere insluit: die unieke ervaring van wynproe, die omgewing en “ambiance” wat die fees bied, die feesprogram en die versekering van ’n unieke ervaring. Wynfeeste is ’n unieke toerismemark wat verder ontgin kan word tot voordeel van die hele vallei, deur die uniekheid van feeste te erken en hierdie faktore verder te ontgin. Beide feeste kan ’n plek in die jaar se kalender opneem, omdat dit tog twee verskillende ervarings aan toeriste bied, wat ’n belangrike element van die toerismebedryf uitmaak. Hierdie faktore kan ook in ag geneem word tydens die bestuur en bemarking van ander wynfeeste, veral binne die Suid-Afrikaanse konteks.

 

8. Erkennings en bedankings 

Eerstens wil ek my dank betuig aan die Kanselierstrust vir die geleentheid om hierdie navorsing te doen en weer in Afrikaans te kon werk. 

Die bestuur van Wacky Wine en Wine on the River word bedank vir hulle hulp gedurende die opname, en so ook al die respondente wat gewillig was om aan die navorsing deel te neem. 

Dankie aan my afgestorwe kollega Melville Saayman wat my in hierdie projek bygestaan het.

 

Bibliografie

Allen, J., W. O’Toole, I. McDonnell en R. Harris. 2005. Festival and special event management. 3de uitgawe. Brisbane, Australië: Wiley. 

Botha, K. en P.A. Viviers. 2012, Exploring the factors that contribute to KKNK ticket purchases. SAIMS (South African Institute for Management Sciences) Conference Proceedings, September 2012:113.

Botha, K., P. Viviers en E. Slabbert. 2012. What really matters to the audience: Analysing the key factors contributing to arts festival ticket purchases. South African Theatre Journal, 26(1):22–44. 

Botha, M., F. Fairer-Wessels en B. Lubbe. 2006. Tourism entrepreneurship. Kaapstad: Juta.

Butler, R., C.M. Hall en J. Jenkins (reds.). 1998. Tourism and recreation in rural areas. Sydney: John Wiley and Sons.

Byrd, E.T., B. Canziani, Y.C.J. Hsieh, K. Debbage en S. Sonmez. 2016. Wine tourism: Motivating visitors through core and supplementary services. Tourism Management, 52:19–29.

Cant, C., A. Brink en R. Machado (reds.). 2005. Pricing management. Claremont: New Africa Books.

Cant, M. 2005. The importance of price. In Cant, Brink en Machado (reds.) 2005

Carmichael, B. 2005. Understanding the wine tourism experience for winery visitors in the Niagara Region, Ontario, Canada. Tourism Geographies, 7(2):185–204.

Cassidy, K. en C. Guilding. 2007. Tourist accommodation price setting in Australian strata titled properties. Hospitality Management, 26:277–92. 

Clark, L.A. en D. Watson. 1995. Constructing validity: Basic issues in objective scale development. Psychological Assessment, 7(3):309–19. 

Crompton, J.L., S. Lee en T.J. Shuster. 2001. A guide for undertaking economic impact studies: The Springfest example. Journal of Travel Research, 40(1):79–87. 

Crompton, J.L. en S.L. McKay. 1997. Motives for visitors attending festival events. Annals of Tourism Research, 24(2):425–39. 

Crouch, G.I. en J.R.B. Ritchie. 1999. Tourism competitiveness, and societal prosperity. Journal of Business Research, 44:137–52.

—. 2000. The competitive destination: A sustainable perspective. Tourism Management, 21(2):1–7.

Daniels, M.J. en W.C. Norman. 2003. Estimating the economic impacts of seven regular sport tourism events. Journal of Sport & Tourism, 8(4):214–22.

Dimanche, F. 2008. From attractions to experiential marketing: The contributions of events to “new” Tourism. In Kronenberg, Mueller, Peters, Pikkemaat en Weiermair (reds.) 2008. 

Dowling, R.K. 1998. Conference report: Three conferences in Western Australia: Wine, geography of tourism and ecotourism. Tourism Recreation Research, 3(2):41–59. 

Du Plessis, E. 2002. Competitiveness of South Africa as a tourist destination. MA-verhandeling, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus). 

Du Plessis, E. en M. Saayman. 2015. Understanding value for money at a live music performance. Journal of Contemporary Management, 11:1–19.

Du Plessis, E., M. Saayman en S. Griffel. 2014. Key factors of competitiveness of the Innibos arts festival in South Africa. SAIMS (South African Institute for management Sciences) Conference Proceedings, September 2014. 

Du Plessis, E., E. Slabbert en M. Saayman. 2017. What do festinos at a national arts festival regard as value for money? South African Journal of Business Management, 48(1):35–43.

Dwyer, L. en C. Kim. 2003. Destination competitiveness: Determinants and indicators. Current Issues in Tourism, 6(5):369–414.

Dwyer, L., P. Forsyth en P. Rao. 2000. The price competitiveness of travel and tourism: A comparison of 19 destinations. Tourism Management, 21(2000):9–22.

Enright, M.J. en J. Newton. 2005. Determinants of tourism destination competitiveness in Asia-Pacific: Comprehensiveness and universality. Journal of Travel Research, 43:339–50. 

Ferreira, S.L.A. en C.A. Hunter. 2017. Wine tourism development in South Africa: A geographical analysis. Tourism Geographies, 19(5):676–98. 

Field, A. 2005. Factor analysis using SPSS. Londen: Sage.

George, B.P. 2006. Wine tourism motivation and the perceived importance of service cape: A study conducted in Goa, India. Tourism Review, 61(3):15–9.

Getz, D. 2002. Event studies and event management: On becoming an academic discipline. Journal of Hospitality and Tourism Management, 9(1):12–23

—. 2003. Sport event tourism: Planning, development, and marketing. In Hudson (red.) 2003.

—. 2008. Event tourism: Definition, evolution, and research. Tourism Management, 29:403–28. 

Getz, D. en G. Brown. 2006. Benchmarking wine tourism development. The case of the Okanagan Valley, British Columbia, Canada. International Journal of Wine Marketing, 18(2):78–97.

Goeldner, C.R. en J.R.B. Ritchie. 2010. Tourism: Principles, practices, philosophies. 12de uitgawe. Hoboken, New Jersey: John Wiley & Sons.

Goldblatt, J. 2002. Special events: Events leadership for a new world. Hoboken: New Jersey: Wiley & Sons.

Gronroos, C. 1990. Service management and marketing. Lexington, Massachusetts: Lexington Books.

Hall, C.M. en N. Macionis. 1998. Wine tourism in Australia and New Zealand. In Butler, Hall en Jenkins (reds.) 1998. 

Heath, E. 2002. Towards a model to enhance Africa’s sustainable tourism competitiveness. Journal of Public Administration, 37(3.1):327–53. 

Hu, Y. en J.R.B. Ritchie. 1993. Measuring destination attractiveness: A contextual approach. Journal of Travel Research, 32:25–34.

Hudson, S. (red.). 2013. Sport and adventure tourism. New York: Haworth.

Kim, H. 1998. Perceived attractiveness of Korean destinations. Annals of Tourism Research, 28(2):340–67.

Knowles, T. 1994. Hospitality management: an introduction. Londen: Pitman.

Kronenberg, C., S. Mueller, M. Peters, M. Pikkemaat en K. Weiermair (reds.). 2008. Change management in tourism. Berlyn: Erich Schmidt Verlag.

Kruger, M. 2009. Spending behaviour of visitors to the Klein Karoo National Arts Festival. M.Com-verhandeling, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus). 

Kruger, M. en M. Saayman. 2012. When do festinos decide to attend an arts festival? An analysis of the Innibos National Arts Festival. Journal of Travel & Tourism Marketing, 29(2):147–62. 

Lickorish, L.J. 1991. Developing a single European tourism policy. Tourism Management, 12(3):178–84.

Lovelock, C.H. 2000. Service marketing. 4de uitgawe. Upper Saddle River, NJ: Prentice Hall International.

Mangion, M., R. Durbarry en M.T. Sinclair. 2005. Tourism competitiveness: Price and quality. Tourism Economics, 11(1):45–68.

Marais, M., E. du Plessis en M. Saayman. 2016. A review on critical success factors in tourism. Journal of Hospitality and Tourism Management, 31(2017):1–12.

McHone, W.W. en B. Rungeling. 1999. Special cultural events: Do they attract leisure tourists? International Journal of Hospitality Management, 18(2):215–9. 

Navickas, V. en A. Malakauskaitė. 2007. Efficiency of event usage for the increase in competitiveness of companies. Engineering Economics, 52(2):91–97.

O’Neill, M.A. en A. Palmer. 2004. Wine production and tourism. Adding service to a perfect partnership. Cornell Hotel and Restaurant Administration Quarterly, 45(3):269–84.

Page, J. 2003. Tourism management: Managing for change. Oxford, Engeland: Butterworth-Heinemann. 

Pallant, J. 2007. SPSS survival manual: A step-by-step guide to data analysis using SPSS version 15. 3de uitgawe. New York, NY: McGraw-Hill. 

Phakdisoth, L. en D. Kim. 2007. The determinants of inbound tourism in Laos. ASEAN Economic Bulletin, 24(2):225–37. 

Pissoort. V. en M. Saayman. 2007. Market segmentation of visitors at three selected arts festivals in South Africa. Acta Commercii, 7(1):255–68.

Poon, A. 1993. Tourism, technology and competitive strategies. Wallingford: CAB International.

Porter, M.E. 1985. Competitive advantage. Creating and sustaining superior performance. Londen: The Free Press.

—. 1990. Competitive advantage of nations, states and regions. Harvard Business School: Advanced Management program.

Ritchie, J.R.B. en G.I. Crouch. 1993. Competitiveness in international tourism: A framework for understanding and analysis. Proceedings of the 43rd Annual Congress of the International Association of Scientific Experts in Tourism (AIEST), Argentina, October 17–23, 1993.

—. 2000. The competitive destination: A sustainability perspective. Tourism Management, 21(1):1–7.

—. 2005. The competitive destination. A sustainable tourism perspective. Wallingford: CABI Publishing.

Saayman, M. en W. Krugell. 2009. Determinants of visitor spending: The Wacky Wine festival as a case study. Journal of Economic and Financial Sciences, 3(2):153–170. 

Saayman, A. en M. Saayman. 2006. Does the location of arts festivals matter for the economic impact? Regional Sciences, 85(4):569–84.

—. 2008. Determinants of inbound tourism to South Africa. Tourism Economics, 14(1):81–96. 

Saayman, M., M. Kruger en J. Erasmus. 2012. Finding the key to success: A visitors’ perspective at a national arts festival. Acta Commercii, 12(1):150–72.

Sevil, G. en H.R. Yuncu. 2009. Wine producers’ perceptions of wine tourism. Tourism Review, 57(4):477–87.

Slabbert, E. en P. Viviers. 2011. Towards an instrument measuring community perceptions of the impacts of festivals. Journal of Human Ecology, 40(3):197–212. 

Steyn, H.S. 2000. Practical significance of the difference in means. Journal of Industrial Psychology, 26(3):1–3.

Stolz, M., E. du Plessis, M. Saayman en A. Saayman. 2013. A marketing analysis and economic impact of the Innibos National Arts Festival. Unpublished report. Potchefstroom: TREES.

Sweeney, J.C. en G.N. Soutar. 2001. Consumer perceived value: The development of a multiple item scale. Journal of Retailing, 77:203–20. 

Van Hove, N. 2002. The economics of tourism destinations. 2de uitgawe. Burlington: Elsevier. 

Van Niekerk, M. en W.J.L. Coetzee. 2011. Utilizing the VICE model for the sustainable development of the Innibos Arts Festival. Journal of Hospitality Marketing & Management, 20(3–4):347–65.

Van Westering, J. 1999. What is wine tourism? Referaat, eerste Europese wyntoerismekonferensie, Surrey, Engeland, 1–4 September.

Visser, G. 2005. Let’s be festive: Exploratory notes on festival tourism in South Africa. Urban Forum, 16(3):155–75. 

Weaver, P.A., K. Weber en K.W. McCleary. 2007. Destination evaluation: The role of previous travel experience and trip characteristics. Journal of Travel Research, 45(3):333–4. 

Yuan, J. en S. Jang. 2008. The effect of quality of satisfaction on awareness and behavioural intentions: exploring the role of a wine festival. Journal of Travel Research, 46(1):279–88.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Wat maak ’n wynfees suksesvol? Die Robertsonvallei-storie appeared first on LitNet.

Taalonderwysers se perspektiewe aangaande vervlegte leer as onderrig- en leerbenadering vir die 21ste-eeuse leerder

$
0
0

Taalonderwysers se perspektiewe aangaande vervlegte leer as onderrig- en leerbenadering vir die 21ste-eeuse leerder

Marné Pedro en Michele van der Merwe, Departement Kurrikulumstudie, Universiteit Stellenbosch

LitNet Akademies Jaargang 17(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Die fokus van hierdie artikel was op die perspektiewe wat taalonderwysers oor die gebruik van vervlegteleerbenaderings aangaande die taalonderrig van die hedendaagse 21ste-eeuse leerder het. Die twee kernoorwegings wat hierdie navorsing gerig het, was eerstens die beduidende rol wat onderwysers se perspektiewe speel met betrekking tot opvoedkundige hervormingspogings en tweedens vervlegte leer as onderrig- en leerstrategie tot taalonderrig aan die 21ste-eeuse leerder.

Met die tegnologiese vooruitgang wat so kenmerkend van die 21ste eeu is, is dit noodsaaklik om die manier waarop mense leer, te herontwerp en te verander. Binne die kontekstuele raamwerk van die 21ste-eeuse klaskamer moet daar in ag geneem word dat tegnologie deel vorm van die hedendaagse leerder se verwysingsraamwerk. Hierdie veranderende opvoedkundige landskap noop die onderwyser om vernuwend na onderrig en leer te kyk en strategieë te ondersoek vir hoe tegnologie op ’n sinvolle wyse binne die kurrikulumraamwerk geïntegreer kan word sonder om die eienskappe van tradisionele leerervarings te ignoreer. Die doel is om uiteindelik ’n positiewe uitwerking met betrekking tot die aard en kwaliteit van die opvoedkundige ervaring in die taalklas te bewerkstellig.

Gegewe die deurslaggewende rol wat onderwysers se perspektiewe speel ter verwesenliking van die suksesvolle en sinvolle implementering van vernuwende onderrig- en leerbenaderings, het ons deur middel van ’n interpretivistiese gevallestudiebenadering die perspektiewe van agt taalopvoeders van dieselfde skool, wat tans vervlegteleerbenaderings binne die bestaande nasionale kurrikulum integreer, ondersoek. Die insigte wat deur semigestruktureerde onderhoude en ’n fokusgroeponderhoud verkry is, is volgens ’n inhoudsanalise-benadering ontleed om uiteindelik die hoofnavorsingsvraag van hierdie studie te beantwoord, naamlik: Watter perspektiewe huldig taalonderwysers oor die gebruik van vervlegteleermetodes in hulle klaskamers?

Die studie lewer ’n bydrae tot opvoedkundige navorsing deurdat onderwysers se perspektiewe as belangrike oorweging tot suksesvolle opvoedkundige hervormingsbewegings met betrekking tot vernuwende onderrigleerpraktyke, geïdentifiseer word. Verder lewer hierdie studie ook ’n belangrike bydrae ten opsigte van die aanvaarding van tegnologie-gedrewe opvoedkundige praktyke in die plaaslike Suid-Afrikaanse konteks.

Trefwoorde: 21ste-eeuse leerder; onderwyspraktyk; sosiale konstruktivisme; taalonderwyserperspektiewe; vervlegte leer

 

Abstract

Teacher perspectives on blended learning as a teaching and learning approach to language teaching for the 21st-century learner

The focus of this study was on the perspectives of language teachers on the use of blended learning approaches with regard to the teaching of the current 21st-century learner. Two core considerations guided this study. The first related to the significant role that the teacher’s perspective plays on educational reform efforts, and the second concerned blended learning as a teaching and learning strategy for language teaching.

New technologies can be regarded as synonymous with future-oriented education. With technological advances being so characteristic of the 21st century, it is necessary to redesign and transform the way in which teaching and learning occurs within the classroom. Within the contextual framework of the 21st-century classroom, it should be noted that technology forms part of the overall frame of reference for today’s learners. The changing educational landscape urges the teacher to embrace an innovative disposition with regard to teaching and learning, and to explore ways in which technology can be integrated meaningfully within the curriculum framework and be combined with the most valued features of traditional learning experiences to ultimately transform the language classroom in terms of the nature and quality of the educational experience.

The concept of blended learning is widely accepted in the literature as an integrated approach to learning between traditional face-to-face approaches and computer-aided, web-based or online approaches (Olivier 2013:47). Garrison and Kanuka (2004:99) state that a single mode of instructional delivery may not provide sufficient choices, engagement, social contact, relevance and context needed to successfully teach and learn within the contextual framework of the 21st century.

It is clear that taking these views into account within the contextual framework of language teaching, blended learning has the potential to transform the language class into an environment where new, previously unthinkable tasks become possible and the right blend can be used to create a collaborative environment and support constructivist and authentic learning experiences.

On the basis of the above arguments, we identified the following problems that this study took into account:

1) Conflict between integration policies and practices may arise in cases where policies governing technology integration and innovative teaching and learning practices are adopted in schools without the recognition of teacher perspectives.

2) The implementation of innovative approaches to language teaching based in 21st-century teaching and learning practices may create uncertainty in instances where the teacher is not familiar with the necessary pedagogical knowledge and practical skills for technology integration.

The purpose of the study was to contribute to the research that has already been done on blended learning and to expand the field of research, namely the integration of blended learning in high school language teaching. Given the crucial role of teachers’ perspectives in ensuring successful and meaningful implementation of innovative teaching and learning approaches, we investigated the perspectives of eight language educators through the lens of an interpretivist case study approach. These language educators currently use blended learning approaches within the parameters of the existing national curriculum.

The insights gained from the semi-structured interviews and from a focus group interview were analysed according to a content analysis approach to ultimately answer the main research question of this study, namely: What perspectives do language teachers have concerning the use of blended learning methods in their classrooms? In order to answer this question, we relied on key informants who have first-hand knowledge of the integration of blended learning within the language teaching space. We purposefully decided which persons would be approached to inquire whether they would participate in the investigation. This ensured that persons who were knowledgeable on the subject were included in the study (Burns and Grove 2001:376).

Language teachers who completed a short course on blended learning at Stellenbosch University were our preferred candidates for the purposes of this study. These key informants comprised grade 8 to 12 language teachers from three language departments, namely Afrikaans Home Language and First Additional Language, English Home Language and First Additional Language and the Department of Foreign Languages at a section 21 high school in the Western Cape. The findings of this study provides a detailed description of the lived experiences of teachers practising blended learning integration in the language classroom.

Borg (2015:2) states that insights gained from the field of psychology elucidate how perspectives exert a significant influence on human action. It can be concluded that studying teacher perspectives is central to gaining insight into the teaching-learning process. According to Levin and Wadmany (2006:159), teacher perspectives can be described as teachers’ implicit beliefs about educational issues such as knowledge, teaching, learning and the curriculum. Studying teachers’ perspectives is an important facet of many areas of education, including the field of technology integration (Galvis 2012:96).

The study found that divergent factors influence teachers’ perspectives. Teachers may maintain a positive attitude towards the integration of learning technology in language teaching, but considerations such as contextual factors related to the practical implementation of blended learning, limited knowledge of the pedagogical principles that are foundational to blended learning approaches, and the omission of teacher involvement during the planning and implementation phases of educational reform efforts are ultimately strong determinants of teachers’ classroom practices.

In this study we also make recommendations firstly with regard to bridging contextual factors that bask in blended learning implementation, secondly with regard to modifying blended learning integration policies to enhance teacher engagement and build pedagogical knowledge on innovative teaching methods and, thirdly, with regard to the design of a general planning framework that can be used by teachers during lesson planning to ensure meaningful technology integration.

The study contributes to educational research by establishing the teacher’s perspective as an important consideration for successful educational reform movements. The study also makes an important contribution to the adoption of technology-driven educational practices in the local South African context.

Keywords: 21st-century learner; blended learning; perspectives of language teachers; social constructivism; teaching practice

 

1. Inleiding

Met die snelle tegnologiese vooruitgang wat so kenmerkend van die 21ste eeu is, is dit noodsaaklik om die manier waarop daar onderrig en geleer word, te herontwerp en te vernuwe. Taylor en Van der Merwe (2019:6) stem hiermee saam en stel dit dat “21ste-eeuse tegnologie die landskap van die skoolklaskamer verander [het] en dit noop onderwysers om die gebruik daarvan met nuwe oë te beskou.” 

Garrison en Kanuka (2004:97) redeneer dat tegnologie op ’n sinvolle wyse binne die kurrikulumraamwerk geïntegreer moet word. Om hierdie ideaal te kan verwesenlik moet onderwysers toegerus word om beide moderne opvoedkundige leertegnologieë én tradisionele leerervarings effektief binne die kurrikulum te integreer. Dit is slegs deur hierdie sinvolle konvergensie en integrasie dat vervlegte leer ’n transformerende impak op die aard en kwaliteit van die opvoedkundige ervaring sal hê.

Die konsep van vervlegte leer word algemeen in die literatuur aanvaar as ’n geïntegreerde benadering tot leer tussen tradisionele aangesig-tot-aangesig en rekenaargesteunde, webgebaseerde of aanlyn benaderings (Olivier 2013:47). Navorsing oor vervlegte leer deur Al-Huneidi en Schreurs (2017:1) versterk die argumente van Garrison en Kanuka (2004:99) en stel dit dat ’n enkele modus van onderriglewering moontlik nie genoeg keuses, betrokkenheid, sosiale kontak, relevansie en konteks bied om suksesvolle onderrig en leer binne die kontekstuele raamwerk van die 21ste eeu te fasiliteer nie.

Met hierdie beskouings inaggenome, blyk dit duidelik dat vervlegte leer binne die kontekstuele raamwerk van taalonderrig oor die potensiaal beskik om die taalklas in ’n omgewing te verander waar nuwe, voorheen ondenkbare take moontlik word en die regte kombinasie van vervlegting gebruik kan word om samewerkende, konstruktivistiese en outentieke leerervarings te ondersteun. Hierdie argumente word deur Kukulska-Hulme (2012:74) beaam, wat transformerende onderwys beskryf as ’n leeromgewing waar samewerkende, kreatiewe en kritiese denkvaardighede deur die sinvolle gebruik van tegnologiese instrumente bevorder word.

Die oortuiging dat tegnologie in die hedendaagse Suid-Afrikaanse klaskamer hoort, is beslis ook binne die plaaslike opvoedkundige milieu aanwesig. Die struikelblok is egter dat daar ’n sterk kontras bestaan tussen leer- en onderrigideale wat tegnologie-integrasie behels en deur onderwysbeleidsmakers in Suid-Afrika voorgestel is, en die realiteite en uitdagings wat vervlegteleerpraktisyns in plaaslike klaskamers in die gesig staar. Die Witskrif oor e-Onderwys van 2004 (Departement van Onderwys 2004) omskryf ’n tienjaarplan vir die bevordering van e-leer in Suid-Afrika met die uitgangspunt dat onderwysers en leerders deur middel van inligting- en kommunikasietegnologie (IKT) toegang tot ’n groter akademiese landskap van hulpbronne en idees verkry, ten einde die doelwitte van die nasionale kurrikulum te verwesenlik.

Alhoewel die ideale vir toekomsgerigte onderrig en leer deur middel van tegnologie-integrasie duidelik in die Witskrif oor e-Onderwys uiteengesit word, bestaan daar min ontwikkelingsinisiatiewe wat aan skole die nodige ondersteuning en riglyne bied ter implementering van leerruimtes wat deur e-leerstrategieë gekenmerk word. Gevolglik is die onus op skole geplaas om self strategieë ter integrasie van vernuwende onderrig- en leerpraktyke te ontwikkel. Uiteenlopende tegnologie-integrasieplanne, wat tot die kontekstuele raamwerk van ’n gegewe skoolgemeenskap spreek, word gevolglik deur verskeie skole regoor die land ontwerp en geïmplementeer. Binne hierdie strewe na transformasie om die 21ste-eeuse onderrig- en leerbehoeftes van leerders aan te spreek, is dit egter dikwels onderwysers wat as kernrolspelers na vore tree. Die rasionaal vir hierdie studie spruit juis uit hierdie kwessie van onderwyser-inisiatief. Met slegs algemene nasionale doelstellings en riglyne met betrekking tot digitale-transformasie van die Suid-Afrikaanse klaskamer, word die praktiese transformasie van die onderrig- en leerruimte dikwels aan die onderwyser oorgelaat. Daarom erken ons juis onderwyserperspektiewe en die rol van die onderwyser as kernoorweging ter implementering van vervlegte leer in die plaaslike landskap.

Op grond van die bostaande argumente identifiseer ons die volgende probleme wat met die rasionaal en motivering vir hierdie studie skakel:

1) In gevalle waar beleide ten opsigte van tegnologie-integrasie en vernuwende onderrig- en leerpraktyke in skole aangeneem word sonder die erkenning van onderwyserperspektiewe, mag ’n teenstrydigheid tussen die integrasiebeleid en -praktyk ontstaan. 

2) Die implementering van vernuwende benaderings tot taalonderrig wat in 21ste-eeuse onderrig- en leerpraktyke gesetel is, mag onsekerheid kweek in gevalle waar die onderwyser nie vertroud is met die pedagogiese kennis, asook praktiese vaardighede, van tegnologie-integrasie nie.

Die doel van die studie is om ’n bydrae te lewer tot die navorsing wat reeds oor vervlegte leer gedoen is en om die navorsingsterrein, naamlik die integrasie van vervlegte leer in hoërskooltaalonderrig, uit te brei. Die navorsingsvraag – Wat is taalonderwysers se perspektiewe aangaande vervlegte leer as onderrig- en leerstrategie aan die 21ste-eeuse leerder? – is ontwikkel om onderwyserperspektiewe aangaande vervlegte leer as onderrig- en leerbenadering tot taalonderrig te ondersoek om vas te stel of vervlegte leer sinvol binne die nasionale kurrikulum vir taalonderrig tot voordeel van hedendaagse leerders geïntegreer kan word. 

 

2. Literatuurstudie 

2.1 Inleiding

In hierdie hoofstuk bied ons ’n oorsig oor akademiese debatte en literatuur oor aspekte wat verband hou met onderwyserperspektiewe rakende vervlegte leer as ’n 21ste-eeuse onderrigleerbenadering. Die primêre doel van ’n literatuurstudie is om by te dra tot ’n beter begrip van die aard en betekenis van die probleem wat geïdentifiseer is (Fouché en Delport 2005:123). Vir die doeleindes van hierdie studie is literatuur geïdentifiseer wat meewerk om hierdie studie se sentrale navorsingsvraag te beantwoord wat sentreer rondom die onderwyser se beskouing oor 21ste-eeuse onderrig- en leerstrategie.

2.2 Vervlegte leer as 21ste-eeuse onderrigleerbenadering

Bath en Bourke (2010:1) se beskrywing maak ’n waardevolle bydrae ter verduideliking van wat vervlegte leer prakties vir die onderrigleeromgewing beteken. Volgens hierdie outeurs word vervlegte leer gerealiseer in onderrig- en leeromgewings waar daar ’n effektiewe integrasie van verskillende modusse, asook modelle van onderrig- en leerstyle, as gevolg van die aanneming van ’n strategiese en sistematiese benadering tot die gebruik van tegnologie bestaan. Die integrasie van onderrigtegnologieë moet egter met die beste eienskappe van aangesig-tot-aangesig-interaksie gekombineer word.

Hierdie beskouing van vervlegte leer word verder verhelder deur Bailey, Ellis, Schneider en Vander Ark (2013:1‒8), wat ook beklemtoon dat vervlegte leer ’n ingewikkelde en veelvlakkige proses is, wat impliseer dat daar binne die opvoedkundige konteks heroorweeg moet word hoe die klas gestruktureer word, hoe tyd gebruik word en hoe beperkte hulpbronne toegewys word. Dit is dus nie die doel om bestaande inhoud in ’n nuwe formaat te onderrig nie, maar eerder om ’n transformerende omgewing te skep waardeur kreatiewe, kritiese en komplekse leervaardighede ontwikkel kan word (Garrison en Kanuka 2004:99).

Singh (2003:51–4) beklemtoon dat die regte kombinasie van vervlegting kan verseker dat elke element, afsonderlik en gesamentlik, tot ’n sinvolle leerervaring kan bydra. Garrison en Kanuka (2004:99) opponeer Singh se oortuiging deur te redeneer dat dit nie alleenlik die regte mengsel van tegnologieë of die toenemende toegang tot leer is wat ’n sinvolle leerevaring sal meebring nie. Vervlegte leer handel inherent oor die heroorweging en herontwerp van die onderrig-en-leer-verhouding. Garrison en Kanuka (2004:99) se argumente sluit aan by Osguthorpe en Graham (2003:228) wat noem dat dit belangrik is om te verseker dat die kombinasie die sterkpunte van elke tipe leeromgewing insluit en dat die swakhede so ver as moontlik beperk word.

Hierdie argumente word gerugsteun deur Conradie (2009:77) en Lawrence (2009:84‒5) wat albei beklemtoon dat tegnologie ’n belangrike rolspeler kan wees om die taalklas tot ’n 21ste-eeuse leerruimte te transformeer, maar dat navorsing oor hóé tegnologie kreatief in die taalklas geïntegreer kan word, nodig is om onderwysers en beleidmakers in die implementeringsproses te lei en te ondersteun.

Ons is van mening dat die onderwyser ’n onlosmaaklike rol binne die effektiewe uitvoering van vervlegte leer speel en dat kwessies soos byvoorbeeld onderwyserperspektiewe, -bevoegdheid en aanslag met betrekking tot vervlegte leer deur middel van opvoedkundige navorsing ondersoek moet word. Die onderwyserbelewenis van vervlegte leer binne die taalonderrigruimte is grondliggend tot hierdie studie. Alhoewel vervlegteleerbenaderings volgens Halverson, Graham, Spring, Drysdale en Henrie (2014:20) met toenemende sukses wêreldwyd as onderrigleerbenadering aangeneem word, is dit ons uitgangspunt om plaaslike onderwysers, binne die Suid-Afrikaanse konteks, se perspektiewe ten opsigte van ’n vervlegteonderrigleerbenadering te probeer verstaan.

Vervolgens word ’n kort oorsig oor die kwessie van onderwyserperspektiewe gegee.

2.3 Onderwyserperspektiewe

Ons ondersoek die aard van onderwyserperspektiewe wat ’n beduidende invloed op klaskamerpraktyke uitoefen. Die studie fokus spesifiek op perspektiewe wat verband hou met taalonderwysers se ervaring en perspektiewe ten opsigte van die benutting van ’n vervlegteleerbenadering. Borg (2015:2) voer aan dat daar oor die afgelope dekade ’n oplewing in die bestudering van taalonderwyserkognisie (wat onderwysers dink, weet en glo), en die verhouding van hierdie perspektiewe tot klaskamerpraktyke in die akademiese landskap, was. Volgens hierdie outeur verhelder insigte wat uit die studieveld van sielkunde verkry is hoe perspektiewe ’n beduidende invloed op menslike handeling uitoefen. Die gevolgtrekking kan reeds vroeg gemaak word dat die bestudering van onderwyserperspektiewe sentraal staan tot die verkryging van insigte in die onderrigleerproses.

In hierdie verband voer ons aan dat perspektiewe oor praktyke belangrik is vir die verbetering van opvoedkundige prosesse en dat hierdie perspektiewe volgens Pajares (1992:310) nou gekoppel is aan onderwysers se strategieë om die uitdagings in hul daaglikse professionele lewens te hanteer.

’n Sleutelfaktor wat opvoedkundige navorsing oor onderwysers se perspektiewe noodsaak, is die erkenning dat onderwysers aktiewe denkers en besluitnemers is wat ’n sentrale kurrikuleringsrol rol in die vorming van klaskameraktiwiteite speel en daarom is die bestudering van onderwyserperspektiewe sentraal tot die verkryging van insigte in die onderrigproses. Die literatuur toon ook dat onderrig ’n komplekse en konteksspesifieke proses is en dit noodsaak die ondersoek van diepgeankerde perspektiewe, waardes en aannames van onderwysers wat vervlegteleerbeleide in die konteks van die klaskamer moet implementeer (Borg 2003:88‒9).

Volgens Levin en Wadmany (2006:159) kan onderwyserperspektiewe beskryf word as onderwysers se implisiete oortuigings van opvoedkundige kwessies soos kennis, onderrigleer en die kurrikulum. Die bestudering van onderwysers se beskouinge of perspektiewe is ’n belangrike faset van baie areas van die onderwys, ook ten opsigte van tegnologie-integrasie (Galvis 2012:96).

Galvis (2012:96) argumenteer dat daar al bewys is dat onderwysers se perspektiewe die regering en die skool se pogings om rekenaartegnologie te implementeer, kan uitdaag en uiteindelik ’n deurslaggewende impak op die sukses of mislukking van tegnologie-integrasie kan hê. Daarom kan ’n blik op onderwysers se perspektiewe ’n alternatiewe interpretatiewe lens vir navorsers bied, waardeur dieper insigte aangaande onderwysers se beskouinge, optrede en gedagtes oor vervlegte leer as onderrig- en leerbenadering verkry kan word.

Binne die konteks van hierdie studie is dit ook belangrik om die definiëring van onderwyserperspektiewe binne die kontekstuele raamwerk van vervlegteleerintegrasie te omskryf. Kim, Kim, Lee, Spector en DeMeester (2013:77) benadruk wel dat die navorsingsveld wat oor onderwyserperspektiewe met betrekking tot tegnologie-integrasie handel, aansienlik kleiner is as die meer algemene kontekste waarin die waarde van onderwyserperspektiewe ondersoek word.

Ons is egter van mening dat beide die algemene en breë perspektiewe wat onderwysers behou, sowel as perspektiewe spesifiek tot tegnologie-integrasie, as relevant tot hierdie studie beskou kan word. Binne die literatuur aangaande onderwyserperspektiewe oor tegnologie-integrasie bestaan daar egter ook uiteenlopende beskrywings oor hoe onderwyserperspektiewe met tegnologie verbind kan word. Polly, Mims, Shepard en Inan (2010:863‒70) verbind onderwyserperspektiewe oor tegnologie-integrasie met die onderwyser se waardebeskouing van tegnologie, spesifiek met betrekking tot die leerproses. ’n Onderwyser wat dus volgens Polly e.a. (2010:863‒70) ’n gunstige perspektief oor tegnologie-integrasie het, sal waarskynlik glo dat leerders meer optimaal met behulp van tegnologie kan leer.

Wang, Ertmer en Newby (2004:231‒52) beskou weer onderwyserperspektiewe as selfvertroue ten opsigte van tegnologiegebruik. Binne hierdie beskouing tree die onderwyser se vermoë, asook gemaksone met betrekking tot tegnologie-integrasie, op die voorgrond. Park en Ertmer (2008:247‒67) redeneer dat onderwysers se perspektiewe oor tegnologie-integrasie direk verband hou met hul waardebeskouing van tegnologie, asook hulle perspektiewe oor onderrig- en leermetodologie. Dit is dan juis met hierdie beskouing van onderwyserperspektiewe aangaande tegnologie-integrasie wat die veelvlakkige en interafhanklike aard van perspektiefvorming en bestaan deur ons beklemtoon word.

Die bestudering van onderwysers se perspektiewe is kompleks, of hierdie perspektiewe nou te make het met tegnologie-integrasie of bloot na algemene opvattings oor onderrig en leer verwys. Die komplekse kenmerk wat dus hier geopenbaar word, is dat geen enkele perspektief totaal onafhanklik staan van ander perspektiewe nie. Individuele perspektiewe vind hul plek in groter oortuigingsstelsels en bestaan nooit in isolasie nie. Sommige van hierdie perspektiewe kan positief met mekaar verwant wees, terwyl ander mekaar kan weerspreek.

Met hierdie studie beoog ons om taalonderwysers se persoonlike perspektiewe van vervlegte leer te ondersoek en te probeer interpreteer, asook hoe hierdie onderwysers die teoretiese onderbou van vervlegte leer konstrueer en hoe hierdie oortuigings hul onderrigervarings beïnvloed.

Die onderwyserperspektiewe aangaande vervlegteleerbenaderings word binne hierdie navorsing in die teoretiese raamwerk van Vygotsky se sosiale konstruktivisme gegrond, wat die samewerkende aard van leer en die belangrikheid van kulturele en sosiale konteks beklemtoon (Rice en Wilson, 1999:28–29).

2.4 Sosiale konstruktivisme

Schulze (2003:6) beskryf een van die basiese aannames van konstruktivisme, naamlik dat mense aktiewe leerders is en kennis of betekenis vir hulleself moet opbou. Die skepping van kennis uit ervaring en die gebruik van daardie kennis om nuwe leer te ondersteun, verteenwoordig die fundamentele beginsels van enige konstruktivistiese instruksiemodel. Schulze (2003:6) se omskrywing van konstruktivisme sluit aan by Vygotsky (1978:90) wat veronderstel dat sosiale konstruktivisme ’n leerervaring behels wat ’n verskeidenheid interne ontwikkelingsprosesse aktiveer en wat kan funksioneer slegs wanneer ’n leerder met mense in sy/haar omgewing en in samewerking met sy/haar eweknieë interaksie het.

Thomas en Seeley Brown (2011:50) beklemtoon dat hierdie onderrig- en leerkultuur gesamentlik leer bevorder deur middel van hulle interaksies en deelname in vloeibare verhoudings, wat as gevolg van gedeelde belange en geleenthede ontstaan. In terme van hierdie benadering word onderwysers ook as “leerders” beskou, wat by die konstruksie van betekenisse, insluitend dié van vervlegte leer, betrokke is.

Schulze (2003:6) benoem voorts die fundamentele beginsels van konstruktivisme as (a) die gebruik van voorkennis vir nuwe leer; (b) die aktiewe betrokkenheid by die leerproses deur probleemoplossing; en (c) kennis wat voortdurend verander. Hierdie argumente word gegrond op Vygotsky (1978:90) se rasionaal, wat die kognitiewe en fisiese aktiwiteite van die leerproses beklemtoon. Hy beskou leerders as aktiewe organiseerders van hul eie ervarings en beklemtoon die sosiale en kulturele dimensies van die ontwikkeling.

Die term aktief in aktiewe leer beteken volgens Pordjono (2002:176) semanties dat leerders aktief in die proses betrokke is om hulle eie kennis op te bou en nie net passief kennis van ander opvoedkundige rolspelers ontvang nie.

In Vygotsky se raamwerk wag onderwys nie bloot passief vir leerderontwikkeling nie, maar hulle dryf daardie ontwikkeling. Onderwysers moet die leerders goed leer ken, sodat hulle die regte vlak van leiding kan bied en dit geleidelik kan onttrek, soos wat die leerder se begrip ontwikkel en hy/sy uiteindelik die taak alleen kan verrig. Schulze (2003:6) beklemtoon dat dit noodsaaklik is vir onderwysers om die vaardighede te ontwikkel wat ag slaan op die leerders se behoeftes om deel te neem binne ’n konstruktivistiese leerraamwerk. Daar word van onderwysers verwag om leerders aktief te betrek; hulle moet op verskillende leervoorkeure reageer deur verskeie kognitiewe netwerke en leerroetes te verskaf, asook konstruktiewe terugvoer op assessering verskaf. Op grond van die leerder se vordering, bied die onderwyser die nodige ondersteuning, brei die omvang van die leerder se kennis uit en laat ruimte toe vir die uitvoer van take wat nie buite die raamwerk van sosiale konstruktivisme moontlik sou wees nie.

Bryman (2012:33) sluit hierby aan deur te argumenteer dat kennis nie nét deur middel van sosiale interaksie gekonstrueer word nie, maar dat die konstruksie van kennis in ’n konstante staat van hersiening, vernuwing en verandering is. Bryman se argument skakel met die moontlikhede wat tegnologie-integrasie binne die taalonderrigruimte bied.

Prickel (2000:4) beklemtoon die interaktiewe betrokkenheid van die persoon in die gesamentlike konstruering van kennis en omskryf hoe dit deur middel van geestelike en fisiese prosesse en binne omgewingsblootstelling gebeur. Pordjono (2002:169) sluit by Prickel (2000:4) aan deur leerders as agente te beskryf, omdat hulle die betrokke pedagogiese aktiwiteit op ’n interne wyse verinnerlik.

Hierdie studie gaan dus van die standpunt uit dat die integrasie van vervlegte leer binne die taalonderrigruimte in die teoretiese veld van sosiale konstruktivisme gegrond word, omdat vervlegte leer volgens ons op ooreenstemmende beginsels as dié van die sosiale konstruktivistiese leerteorie berus.

Hierdie literatuurstudie sal voorts kortliks na beginsels vir 21ste-eeuse onderrig en leer verwys om sodoende die integrasie van vervlegte leer as toekomsgerigte onderrig- en leerbenadering binne die taalonderrigruimte te staaf.

2.5 21ste-eeuse onderrig- en leerbeginsels

Die doel van hierdie studie is om onderwyserperspektiewe oor die integrasie van vervlegte leer as onderrig- en leerbenadering vir taalonderrig aan die 21ste-eeuse leerder te ondersoek. Om egter die perspektiewe van onderwysers met betrekking tot onderrig- en leervoorkeure van die hedendaagse leerder te bestudeer, het ons ’n stel toekomsgerigte leerbeginsels nodig wat ’n breër raamwerk vir die bestudering van onderwyserperspektiewe kan vorm. Ons het reeds daarop gedui dat onderwysers se perspektiewe oor die opvoedkundige gebruik van tegnologie dikwels verband hou met onder meer hul algemene perspektiewe en beskouings oor onderrig en leer. Dit is vanuit hierdie beskouing wat drie sentrale temas vir toekomsgerigte onderrig en leer geïdentifiseer word, wat as ’n kompas tydens hierdie ontdekkingsreis oor onderwyserperspektiewe kan dien. Hierdie temas is die verpersoonliking van leer, die veranderende rolle van onderwysers en leerders en die integrasie van tegnologie in die onderrigruimte.

Bolstad, Gilbert, McDowall, Bull, Boyd en Hipkins (2012:1‒73) plaas klem op ’n verbintenis tot die verpersoonliking van leer, bedoelende ’n stelsel wat rondom die leerder self gebou word, eerder as wat van wat die leerder vereis word om by die stelsel aan te pas. Bolstad e.a. (2012:1–73) omskryf hoe die verpersoonliking van leer gevolglik leerder- en onderwyserrolle herdefinieer. Die toekomstige rol van onderwysers sal verander na dié van gidse, mentors, vriende en vennote van leerders se selfgereguleerde persoonlike en samewerkende leerprosesse. Hierdie nuwe vennootskappe word deur vernuwing en nuwe tegnologie gedryf en kan tot die transformasie van pedagogiese strategieë en die herskikking van leerplanne bydra.

Dit is belangrik vir die doeleindes van hierdie studie om te beklemtoon dat Bolstad e.a. (2012:1‒73) se toekomsgerigte onderrig- en leerbenaderings met verwysing na die verpersoonliking van leer en die veranderende rol van onderwysers en leerders in die bestaande Suid-Afrikaanse kurrikulum deur middel van tegnologiegebruik geïntegreer kan word. Die argument wat ons in hierdie verband wil tuisbring, is dat tegnologie bloot as ’n instrument ter vervlegting van leer gebruik kan word, waarmee toekomsgerigte onderrig- en leerbeginsels in die taalonderrigruimte verwesenlik kan word.

Die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) (DvO 2011:5) benadruk dat tegnologie doeltreffend en krities gebruik moet word. Daarbenewens argumenteer ons dat die integrasie van tegnologie deur middel van ’n vervlegte-onderrigleerbenadering wel aan die bepaalde kriteria vir tegnologie-integrasie binne die taalonderrigruimte sal voldoen. Die vervlegting van leer behels dat die beste onderrigpraktyke van beide tradisionele én 21ste-eeuse benaderings vermeng word sodat leer op ’n doeltreffende wyse sal geskied.

2.6 Samevatting

Onderwysers speel vanselfsprekend ’n deurslaggewende rol wanneer opvoedkundige veranderinge binne skoolstrukture beplan word. Doll (1996:342) voer aan dat onderwysers se sienings rakende effektiewe onderwys of kwaliteitopvoeding help om kurrikulumverbetering te beplan. Ons vind aanklank by die oortuigings van Doll omdat die infasering van vervlegte leer in die Suid-Afrikaanse klaskamerruimte nie vir ’n nuwe kurrikulum betoog nie, maar eerder vervlegte leer as onderrig- en leerbenadering binne die kontekstuele raamwerk van die KABV vir taalonderrig wil aanwend. Die benadering wat dus in hierdie studie gevolg word, is dat onderwysers se perspektiewe oor vervlegte leer binne ander oortuigingstelsels ingesluit word, soos dié wat met die kurrikulum, kennis, leerders en onderrig- en leerbenaderings verband hou.

 

3. Teoretiese begronding: paradigmatiese en epistemologiese beskouings

Navorsing behels normaalweg die soeke na kennis en die verkryging van nuwe insigte binne ’n onbekende of onverkende gebied. Navorsers wat kwalitatiewe navorsing doen, begin dikwels hul ondersoek binne ’n paradigma, met ander woorde, hulle neem sekere aannames of bepaalde wêreldbeskouings as uitgangspunt. ’n Paradigma sluit, volgens Denzin en Lincoln (2000:33), die navorser se epistemologiese, ontologiese en metodologiese beskouings in wat die navorser se navorsingsbenadering tot die studie rig. Alhoewel daar ’n aantal perspektiewe is waaruit navorsers die sosiale werklikheid kan ondersoek en interpreteer, moet hierdie perspektiewe duidelik ten opsigte van ontologie en epistemologie gedefinieer word. Om hierdie verbande duidelik binne die kontekstuele raamwerk van die studie te stel, bied Tabel 1 ’n samevattende oorsig oor hierdie studie se epistemologiese, ontologiese en metodologiese beskouings binne ’n paradigmatiese begronding.

Tabel 1. Die epistemologiese, ontologiese en metodologiese beskouing van hierdie studie

Paradigma

Ontologie

Epistemologie

Data-insameling

Die interpretivistiese paradigma veronderstel dat ’n unieke perspektief van die geval verkry word deur te poog om te verstaan hoe betekenis in ’n bepaalde konteks ontwikkel.

In hierdie studie rig ons die ontologie wat veronderstel dat baie sosiale realiteite bestaan as gevolg van uiteenlopende menslike ondervindings, insluitende mense se perspektiewe, kennis, interpretasies en ervarings. Deelnemers se persoonlike en subjektiewe ervarings is belangrik.

Gebeure word verstaan deur die proses van interpretasie wat beïnvloed word deur interaksie in sosiale kontekste. Kennis word dus tydens interaksie met ander gekonstrueer.

’n Interpretivistiese gevallestudie is as navorsingsmetode gevolg, waartydens semigestruktureerde onderhoude, ’n fokusgroep en vraelyste as instrumente vir data-insameling gebruik is.

 

Ons het hierdie studie met ’n postmodernistiese siening benader, wat die menslike persepsie en ervaring as integrale oorwegings met betrekking tot die navorsingsdomein ag (Van Huyssteen 2004:27). Hierdie beskouing plaas die studie gevolglik binne die interpretivistiese paradigma omdat die navorsing gebaseer is op die uitgangspunt dat die onderwyser se wêreld een is van diverse en komplekse verskynsels met veelvlakkige betekenisse, interpretasies en ervarings. Die studie poog om te verstaan hoe hierdie betekenisse binne ’n bepaalde konteks ontwikkel.

Ons uitgangspunt in hierdie verband word verhelder deur Henning, Van Rensburg en Smit (2004:21) wat die fundamentele aannames van die interpretivistiese paradigma beskryf as:

[i]ndividue wat oor die vaardighede beskik om ’n individuele oordeel te vel en oor die agentskap om hul eie persepsies te vorm en besluite te neem. Daar word aanvaar dat oorsake en gevolge interafhanklik is en dat elke gebeurtenis deel vorm van en verduidelik kan word aan die hand van meervoudige, interafhanklike faktore. Algehele objektiwiteit is ’n uitdaging – juis omdat individue betekenis aan gebeure verleen op grond van hul individuele betekenissisteme. (Ons vertaling)

Henning e.a. (2004:21) se beskouing sluit by ons uitgangspunt aan om sommige van die perspektiewe of implisiete teorieë van onderwysers ten opsigte van vervlegte leer te interpreteer. Die doelstellings van hierdie studie word dus goed belyn met die aannames van die interpretivistiese paradigma, waar aanvaar word dat mense hul eie subjektiewe en intersubjektiewe betekenisse skep soos wat hulle met die wêreld rondom hulle in verbinding tree (Orlikowski en Baroudi 1991:1).

 

4. Navorsingsontwerp en metodologie

Hierdie afdeling fokus op die navorsingsontwerp en -metodologie wat in hierdie studie gebruik is. Dit bied ’n bespreking van die eienskappe van ’n kwalitatiewe metodologie, gevolg deur die rasionaal vir die aanvaarding van hierdie benadering. Die navorsingsinstrumente en die metodes wat gebruik is vir die insameling en analise van data, insluitend kwessies wat verband hou met integriteit van die navorsing, word voorts bespreek.

4.1 Kwalitatiewe navorsing: die interpretivistiese gevallestudie

Die interpretivistiese paradigma skakel goed met die doelstellings van kwalitatiewe navorsing, wat die werklikheid as sosiaal gekonstrueer en vloeibaar beskou. Kennis is dus altyd onderhandelbaar binne kulture, sosiale instellings en verhoudings met ander mense. Vanuit hierdie perspektief kan waarheid nie as ’n objektiewe werklikheid beskou word nie. Daarbenewens berus kwalitatiewe navorsing op ’n paradigma wat mense as bewuste, selfregerende wesens verklaar, wat voortdurend die sosiale realiteit opbou en herbou (De Villiers en Van der Wal 2004:239).

’n Kwalitatiewe ontwerp is ook volgens Babbie en Mouton (2001:278) buigsaam vir veranderinge “waar en wanneer nodig”. Ons fokus met betrekking tot die ondersoek oor taalonderwysers se perspektiewe aangaande vervlegte leer, berus op die begrip en beskrywing van hierdie sosiale verskynsel en nie op die veralgemening van die bevindinge nie.

Die doelstellings van kwalitatiewe navorsing, soos deur De Villiers en Van der Wal (2004:238) omskryf, word goed belyn met die doelstellings van die gevallestudiebenadering. Vanuit Merriam (1998:6) se perspektief is konstruktivisme die epistemologie wat die kwalitatiewe gevallestudie moet rig. Sy beweer dat die sleutelfilosofiese aanname waarop alle soorte kwalitatiewe navorsing gebaseer is, die siening is dat die werklikheid deur individue in wisselwerking met hul sosiale wêrelde gebou word (Merriam 1998:6). Sy argumenteer voorts dat die werklikheid nie ’n objektiewe entiteit is nie, maar dat daar verskeie interpretasiemoontlikhede van die werklikheid is (Merriam 1998:22).

Met hierdie filosofiese aanname as uitgangspunt, gebruik ons ’n gevallestudiebenadering om ’n grondige begrip van die betrokke onderwysers se gegewe situasie of konteks te verkry ten einde die navorsingsvrae te kan beantwoord.

4.2 Skoolagtergrond

Die dorp waarin die betrokke skool geleë is, is een van die oudste dorpe in Suid-Afrika. Die dorp is ’n snelgroeiende dorp wat oor uitstekende top akademiese laer- en hoërskole beskik. Die skole bied gehalte-onderrig met uitstekende geleenthede vir holistiese ontwikkeling met betrekking tot akademiese, sport- en kultuurgeleenthede. Hierdie skole bied ook ’n geweldige ryk kulturele erfenis en lok talle Afrikaans- en Engelssprekende leerders van regoor die land. ’n Unieke skoledorp-gevoel is ook kenmerkend van die dorp omdat die skole so naby aan mekaar geleë is. Die aanwesigheid van goed opgeleide leerkragte en voldoende skoolhulpbronne en -fasiliteite wat binne ’n innoverende en ondersteunde wyer skoolgemeenskap strewe na uitnemende onderwys, is ’n verdere kenmerk wat belangrik is ter oorweging van die betrokke skool se kontekstuele agtergrond

Die hoërskool wat deel vorm van hierdie gevallestudie, is ’n artikel 21-hoërskool in die Wes-Kaap en ressorteer onder die Wes-Kaapse Onderwysdepartement. Daar word al vir meer as 150 jaar onderrig van die hoogste gehalte gelewer en hierdie stelling word gegrond op die 100%-slaagsyfer wat al vir meer as 20 opeenvolgende jaar in die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)-eksamen behaal word. Die skool is ’n tradisieryke skool met ’n wye keuse van vakmoontlikhede, goeie geriewe, goed gemotiveerde leerkragte en ’n beheerraad met die nodige visie. Die skool se beheerraad en personeel erken daarom in die Skoolbeleid vir vervlegteleerintegrasie (Anoniem 2017)1 ’n noodsaaklikheid om die ongeveer 600 leerders bloot te stel aan die mees moderne onderrigmetodes, hulpmiddels en rekenaartegnologie wat bestaan ten einde leerders optimaal vir die toekoms te bemagtig.

4.3 Steekproefneming

Sleutelbronne van inligting is persone wat deeglik en doelgerig gekies is omdat hulle bepaalde kennis en ervarings binne die betrokke ondersoekveld het (Leininger 1996:38). In die konteks van hierdie studie is hierdie sleutelbronne diegene wat oor eerstehandse kennis van die integrasie van vervlegte leer binne die taalonderrigruimte beskik. Ons het doelgerig besluit watter persone genader sou word en te verneem of hulle aan die ondersoek sal deelneem. Daardeur is verseker dat persone wat kundig is oor die onderwerp in die studie ingesluit word (Burns en Grove 2001:376). Taalonderwysers wat ’n kortkursus oor vervlegte leer aan die Universiteit Stellenbosch voltooi het, was ons voorkeurkandidate vir die doeleindes van hierdie studie. Hierdie sleutelbronne is graad 8–12-taalonderwysers vanuit drie taaldepartemente, naamlik Afrikaans Huistaal en Eerste Addisionele Taal, Engels Huistaal en Eerste Addisionele Taal en Departement Vreemde Tale by ’n artikel 21-hoërskool in die Wes-Kaap. Die redes vir die keuse van graad 8–12-taalonderwysers was, eerstens, dat die gekose skool in die proses was om vervlegte leer te implementeer en, tweedens, omdat een van die navorsers van hierdie studie as praktisyn by die betrokke skool verantwoordelik was om die integrasieproses van hierdie nuwe onderrig- en leerbenadering te monitor en ondersteuning aan die betrokke deelnemende onderwysers te bied. Aspekte wat oor die betroubaarheid van die navorsing handel, sal onder 4.7 bespreek word.

Die agt onderwysers het tussen 1 jaar en 30 jaar se onderwysondervinding gehad en gevarieerde kwalifikasies wat wissel van ’n basiese diploma in onderrig (twee jaar naskoolse kwalifikasie) tot nagraadse kwalifikasies. Daar was ses vroue en twee mans in die steekproef ingesluit en hul ouderdomme het gewissel van 28 jaar tot 65 jaar. Die onderstaande tabel bied ’n oorsig van deelnemers se ouderdomme:

Tabel 2. Deelnemers se ouderdomme

Deelnemer

Ouderdom

Respondent 1

62

Respondent 2

32

Respondent 3

36

Respondent 4

65

Respondent 5

63

Respondent 6

30

Respondent 7

34

Respondent 8

28

 

Die onderwysers wat aan hierdie studie deelgeneem het, het vanaf September 2017 vervlegte leer as kurrikulêre strategie aangeneem, met die doelstelling om 21ste-eeuse onderrig- en leerdoelwitte binne bestaande onderwyspraktyke te integreer. Die betrokke skool het gedurende 2017 aan alle personeellede die geleentheid gebied om ’n kortkursus oor vervlegte leer aan die Universiteit Stellenbosch te voltooi, van wie vyf uit die agt die opleiding voltooi het.

4.4 Semigestruktureerde onderhoude

Kwalitatiewe onderhoude is gebruik om data te genereer ten einde die komplekse werklikhede van hierdie studie beter te probeer verstaan. Die tegniek van onderhoudvoering skakel goed met die doelstellings van interpretivisme, aangesien ruimte geskep word vir die subjektiewe samestelling van kennis rondom onderwyserervarings. Dit is dus deur die interaksie van die deelnemers tydens die onderhoudsituasie wat kennis geskep word. Hierdie semigestruktureerde onderhoude verleen ook die moontlikheid om ’n groter begrip te probeer vorm van die denke en perspektiewe van ’n onderwyser. Op hierdie wyse skakel kwalitatiewe onderhoude goed met die ontologie2, epistemologie3 en aksiologie4 van kwalitatiewe navorsing.

Elke onderhoudsessie het vir ongeveer ’n driekwartier geduur en is ontwerp om onderwysers aan te moedig om vryelik oor vervlegte leer te praat en kwessies te identifiseer wat vir hulle belangrik is. Dit is as waarskynlik beskou dat so ’n relatief spontane gesprek onderwysers se eerlike perspektiewe sou blootlê. Tydens die semigestruktureerde onderhoude het ons die respondente begelei om na te dink oor hul begrip of definisie van vervlegte leer. Die respondente het beskryf hoe tale deur middel van ’n vervlegte-onderrigleerbenadering onderrig en geleer behoort te word. Perspektiewe aangaande hoe hierdie ideale met die deelnemers se eie onderwyspraktyke vergelyk word ook aangespreek. Al die onderhoudsessies is op oudioband opgeneem en later getranskribeer.

Daar was vooraf gesprekvoering oor die reëlings van die onderhoude met die deelnemende onderwysers en gepaste tye is gekies wat al die betrokke partye sou pas.

4.5 Fokusgroeponderhoud

Fokusgroepe is ’n vorm van groepinteraksie tussen die navorsers en respondente om data te genereer. In hierdie groepe word mense aangemoedig om nie net die onderhoudvoerder se vrae as groep te beantwoord nie, maar ook met mekaar te praat, vrae te vra, idees uit te ruil en kommentaar te lewer op mekaar se standpunte en ervarings (De Vos 1998:255). Die fokusgroep het uit vier van die deelnemers bestaan wat aan die semigestruktureerde onderhoude deelgeneem het en die sessie het ongeveer 60 minute geduur. Hierdie metode was nuttig vir die verdere verkenning van gedeelde sienings en perspektiewe met betrekking tot vervlegteleerintegrasie en taalonderrig en -leer van die 21ste-eeuse leerder.

’n Onderhoudskedule met vrae is opgestel om as ’n gids vir die gesprek te dien. Hierdie vrae het die fokusgroepsessie gelei en onderwysers toegelaat om oor probleme te praat en uit te brei oor algemene aspekte van vervlegte leer. Die inligting wat tydens die fokusgroeponderhoud bekom is, was hoofsaaklik gebruik om die data wat vanuit die individuele onderhoude verkry is, te verryk en aan te vul.

4.6 Etiese oorwegings

Die volgende etiese kwessies is in ag geneem gedurende die uitvoering van die gevallestudienavorsing: egtheid, geloofwaardigheid van die navorsingsverslag, die potensiële magsposisie as beide praktisyn en navorser, asook kwessies van persoonlike privaatheid en bekendmaking. Hierdie kwessies is in ag geneem voor die uitvoer van die studie, tydens die data-insameling en data-analise, met die verslaggewing, asook tydens die deel en stoor van die data.

Die volgende beginsels, gebaseer op Creswell (2003) se werk, is tydens die insameling van data in ag geneem:

  • Die skoolterrein is gerespekteer en so min as moontlik versteur. Ons het sensitief opgetree om die impak op en die ontwrigting van die fisiese omgewing te minimaliseer. Ons het alle onderhoude binne ’n spesifieke tydsraamwerk geskeduleer om sodoende nie op die roetine van die skoolskedule van die deelnemers inbreuk te maak nie. Verder het ons die skool se riglyne vir die uitvoer van navorsing volledig gerespekteer.
  • Ons het verder verseker dat alle partye vooraf behoorlik ingelig is oor die voordele van die navorsing. Ons het verseker dat alle partye uit vrye wil aan die ondersoek sou deelneem en daarbenewens is toestemmingsbriewe deur alle deelnemende partye onderteken.
  • Gedurende die proses van onderhoude kan daar moontlik ’n magswanbalans tussen die dataversamelaars en die deelnemers wees. In hierdie ondersoek is potensiële magswanbalanse oordeelkundig bestuur deur te verseker dat die deelnemers ’n sê het in hoe hulle stellings geïnterpreteer word, hoe krities die deelnemers bevraagteken is en wat die positiewe gevolge van die onderhoud vir die deelnemers en die groepe waaraan hulle behoort, kan wees.
  • Gedurende die data-analiseproses het ons sensitiwiteit getoon om nie slegs positiewe resultate uit te lig nie. Ons was nie akademies oneerlik deur belangrike resultate te weerhou of om die resultate in ’n gunstige lig op die deelnemers of die navorsers se bevindinge te werp nie. Die verslag het die diversiteit van perspektiewe oor die onderwerp akkuraat weergegee.
  • Ons het verder die privaatheid van die deelnemers beskerm. Die name van deelnemers is nie gedurende die kodering en die proses van ontleding en optekening bekend gemaak nie.
  • Ons het nie outeurskap, bewyse, data, bevindinge of gevolgtrekkings vervals nie. Met die interpretasie van data het ons ’n akkurate weergawe van die inligting verskaf. Ons het ook nie enige data aangepas om die verwagtinge van enige deelnemers in die navorsingsproses te bevredig nie.
  • Rou data en ander navorsingmateriaal sal vir ’n geruime tyd deur ons gestoor word nadat die navorsing gepubliseer is.

Etiese klaring is by die betrokke owerhede verkry en toestemming is vir die navorsingsprojek verleen voordat ons enige data ingesamel het:

  1. die WKOD;
  2. die skoolbeheerliggaam (SBL) van die betrokke hoërskool.

 

4.7 Betroubaarheid

Kriteria vir betroubaarheid in kwalitatiewe navorsing is nou gekoppel aan die paradigmatiese begronding van die besondere dissipline waarin ’n bepaalde ondersoek gedoen word. Met die interpretivistiese paradigma as raamwerk, is die volgende stappe geneem om te verseker dat die navorsing as betroubaar geag word:

  1. ’n Aantal proefonderhoude is vooraf deur ons gevoer om te verseker dat die vrae van die onderhoudskedule vir die deelnemers duidelik sou wees. Ons het een hoërskoolonderwyser vanuit die Wes-Kaap en een dosent van die Universiteit Stellenbosch geïdentifiseer met wie hierdie proefonderhoude gehou is. Op grond van ons ervarings tydens hierdie onderhoude, asook volgens die terugvoer van die twee proefpersone, is die vrae aangepas.
  2. Ons is van mening dat dit waardevol is om die mening van kenners in verband met die betrokke navorsinginstrumente in te win. In ooreenstemming met hierdie standpunt het ons die betrokke onderhoudsvrae aan ’n kundige op die gebied van vervlegteleerintegrasie gerig. Die kundige het in 2018 haar tweede doktorsgraad met vervlegte leer as onderwerp verwerf het. Namate ons en die betrokke kundige konsensus bereik het oor die geldigheid van die navorsingsvrae van hierdie onderhawige studie se onderhoudskedule, is groter geldigheid aan hierdie studie verleen.
  3. Hierdie navorsing dra ’n etnografiese outoriteit, siende dat die navorsers direk in die navorsingsveld aanwesig was, en daarom behoort ons interpretasie van die onderhoude ook as geldig beskou te word.
  4. Die betroubaarheid van die navorsing sal verhoog word deur die deursigtige optrede van die navorsers. Die navorsers is eerlik oor wat hulle in die navorsingsveld gedoen het, asook oor hulle aksies met betrekking tot databestuur, -kodering en -analise.

 

5. Bevindinge

5.1 Inleiding

Voorts beskryf ons die ontleding en bevindinge van die data wat uit die ondersoek voortspruit om die hoofnavorsingsvraag van hierdie studie – Wat is taalonderwysers se perspektiewe aangaande vervlegte leer as onderrig- en leerstrategie aan die 21ste-eeuse leerder? – te probeer beantwoord. Die agt deelnemers se response word volgens ’n kode aangedui. Die R staan vir respondent en FD staan vir fokusgroepdeelnemer en elke respondent is genommer soos in Tabel 2 uiteengesit om hulle anonimiteit te beskerm.

Alvorens die bevindinge beskryf word, sal daar eers ’n toeligting wees van die deelnemende onderwysers se insigte en perspektiewe oor vervlegte leer as pedagogiese benadering. Dié stelling is gegrond op ons standpunt dat indien onderwysers ’n oppervlakkige en beperkte verstaan of begrip van vervlegting en die pedagogie van vervlegte leer het, hulle persepsie oor die integrasie van die leerbenadering daardeur beïnvloed mag word. In die woorde van R7: “[J]y moet versigtig wees om ’n leerbenadering aan te neem […] wat jy nie werklik verstaan nie.”

’n Goeie pedagogiese kennis van vervlegte leer kan verseker dat onderwysers verstaan hoe die gebruik en integrasie van verskeie tegnologieë hulle onderrig moontlik kan verander ten einde groter leerderbetrokkenheid en motivering te bewerkstellig. Indien die onderwyser nie oor die nodige pedagogiese kennis van vervlegte leer beskik nie, sal die onderwyser waarskynlik ook nie in staat wees om ryk en betekenisvolle leerervarings met verwysing na die gebruik van tegnologie in die taalonderrigruimte vir leerders te skep nie. Gevolglik sal beide onderwysers en leerders benadeel word.

5.2 Onderwysers se definiëring van vervlegte leer

Respondent 6 (voortaan R6) maak die volgende opmerkings aangaande haar begrip van vervlegte leer:

Vervlegte leer is digitaal, readily available, byderhand en al [die leerders se] hulpbronne is op een plek om dit vir hulle makliker te maak. In plaas van die groenbord, gebruik jy ander metodes om te kommunikeer sodat dit meer effektief kan wees. Leerders kan sodoende meer betrokke raak en hands-on leer en [leerders] word meer gestimuleer. Die tradisionele metodes word steeds gebruik (dié wat werk), maar op ’n vernuwende manier waarby die leerders aanklank sal vind. Dit gaan oor maklike toegang.

R6 se begrip aangaande vervlegte leer vermeld nie slegs die eienskappe van vervlegte leer wat met tegnologie as ’n aanlyn platform vir leer verband hou nie, maar sluit ook sommige van Bolstad e.a. (2012:1–73) se 21ste-eeuse leerbeginsels in. R6 se verwysing na leerders wat “meer betrokke” by die les kan raak en “hands-on leer”, korreleer met Bolstad e.a. (2012:1–73) se veronderstelling dat 21ste-eeuse leer ’n verandering in die tradisionele onderwyser- en leerderrolle voorstel. Hierdie begrip staan sentraal tot die potensiële ryk en betekenisvolle leerervarings wat deur vervlegte leer geskep kan word en R6 se uitgebreide begrip van hierdie vernuwende onderwyser-leerder-dinamika dui moontlik op die positiewe veranderinge wat in haar klaskamerpraktyk voorkom.

In R7 se beskrywing van vervlegte leer word daar ook aspekte van Bolstad e.a. (2012:1‒73) se omskrywing van rolverskuiwing aangetref. R7 beskryf tradisionele leerbenaderings as “die onderwyser [wat] die sentrale punt in die les [is] en die leerders [as] die toeskouers. Vervlegte leer beteken egter dat die leerders eienaarskap oor die inhoud neem en hulle is deelnemers aan die leerproses.” Die verwysing na toeskouers teenoor deelnemers word ook geëggo in R8 se definiëring van vervlegte leer:

In blended learning the learners take more ownership over their work and therefore they figure out more for themselves. In traditional learning the teachers are in charge and the learners only respond to whatever command/exercise they are given.

R6, 7 en 8 lig dus elkeen nie net die vermoë van vervlegteleerintegrasie om die leerder op ’n meer prominente en betekenisvolle wyse by die les betrokke te kry, uit nie, maar lê ook klem daarop dat dié verskuiwing in die onderrig- en leerdinamika verhoogde stimulasie vir die leerder tot gevolg kan hê. Hierdie argumente strook met Pordjono (2002:169) se insigte aangaande die sosiale konstruktivistiese leermodel, waar leerders as aktiewe deelnemers in die leerproses beskryf word en onderwysers se interaktiewe rol beklemtoon word.

In ooreenstemming met Schulze (2003:6) wat veronderstel dat die motivering om te leer, intern deur die leerder gegenereer word, beskryf R6 en R8 vervlegte leer as ’n wyse om die leerder meer verantwoordbaar vir sy/haar studies te maak. Ons is ook van mening dat indien die onus om kennis in te win op die leerder berus, die moontlikhede vir meer omvattende onderrig verhoog word omdat leerders self ook verskeie hulpbronne sal inspan om hulle onderrig te verryk en te verbreed.

In die vervlegteleerkonteks verwys hierdie hulpbronne na die vernuwende manier van leer, soos deur R6 genoem, naamlik tegnologie-integrasie. Drie ander respondent, naamlik R2, R3 en Fokusgroepdeelnemer 2 (voortaan FD) beskou die gebruik van tegnologie in die klaskamer as die sentrale aspek van vervlegte leer. Hierdie respondente verwys na die gebruik van MS PowerPoint-aanbiedings, aanlyn taalspeletjies, aanlyn woordeboeke en leer met behulp van elektroniese toestelle as integraal tot vervlegte leer in die taalonderrigruimte. Alhoewel die gebruik van tegnologie as belangrike boustene vir vervlegteleerintegrasie beskou word, is ’n belangriker oorweging volgens Garrison en Kanuka (2004:99) dat vervlegte leer inherent oor die heroorweging en herontwerp van die onderrig-en-leer-verhouding handel. Tegnologie moet met ander woorde binne die onderrig- en leerkonteks deur die onderwyser gebruik word om opvoedkundige doelstellings te bereik wat belyn kan word met die vereistes van 21ste-eeuse onderrig- en leerbeginsels.

Dit blyk dus duidelik aan die hand van die respondente se omskrywings en verstaan van vervlegte leer dat die onderwysers se begrip van vervlegting wissel van ’n basiese verstaan dat vervlegte leer die gebruik van tegnologie in die klaskamer behels, tot dieper insigte wat kwessies soos die verandering in onderwyser- en leerderrolle, verhoogde samewerking tussen leerders, ’n groter verantwoordelikheid om jou eie leer te bepaal en verhoogde leerderstimulasie aanroer.

Alhoewel sommige onderwysers in hulle omskrywings van vervlegte leer verwys het na wyses waarop die aanbieding van hulle onderskeie leerareas deur die gebruik van tegnologie verander kan word, identifiseer ons steeds ’n leemte met betrekking tot ’n volledige begrip van hoe tegnologie sinvol in die onderrigruimte gebruik kan word om die aanbieding van taalonderrig te vernuwe. Die deelnemers herken dus met ander woorde sekere kerndoelwitte van die vervlegteleermetode, maar die verbinding tussen die aanbieding van vakinhoud en die gebruik van tegnologie blyk steeds vaag te wees.

Die volgende afdeling is daarmee gemoeid om die hoofnavorsingsvraag van hierdie studie te beantwoord.

5.3 Watter perspektiewe huldig taalonderwysers oor die gebruik van vervlegteleermetodes in hulle klaskamers?

Uit die agt onderwyserdeelnemers is 62,5% positief ingestel oor vervlegteleerpraktyke en noem hulle dat die gebruik van tegnologie die klaskamer “pret” maak (R3 en R8) en die leerproses “verryk” (R3). R2 beskryf hoe tegnologie deel vorm van haar alledaagse persoonlike lewe en meen dat “as jy steeds vandag dink tegnologie het nie ’n rol om in die klas te vertolk nie, dan moet jy weer dink!” R3 beaam ook R2 se stelling deur te noem dat dit “belangrik is om by te bly met die tye”. Hierby sluit R6 aan en stel dit dat sy glo “’n sleutel tot die toekoms van onderrig [is] aanpasbaarheid.”

R8 is van mening dat vervlegteleerpraktyke, veral met die aanleer van ’n nuwe taal, oor baie potensiaal beskik om die klaskamer meer “interaktief” en “pret” te maak en om dan sodoende groter leerderbelangstelling te kweek. Terwyl R8 dit voorstaan dat tegnologie wel ’n plek in die taalonderrigruimte het, is dit terselfdertyd ook haar oortuiging dat tegnologie en aanlyn leer nie die interaksie tussen die onderwyser en die leerder moet vervang nie. Sy beskou die gebruik van tegnologie bloot as ’n hulpmiddel om die aanbieding van lesse af te wissel en ander onderrigleermoontlikhede soos groepswerk en verrykingsaktiwiteite vir leerders moontlik te maak.

Ter aansluiting by die perspektiewe van R8, sê R5: “Ek is ten gunste daarvan dat die jonger geslag [tegnologie] in hulle klasse gebruik, maar solank die interaksie tussen die onderwyser en die leerder behoue bly.” Vir hierdie respondent met meer as 30 jaar onderrigervaring, is “die interaksie tussen die onderwyser en die leerder die belangrikste element van taalonderrig”. Hierdie beskouing strook met Vygotsky (1978) se teorie van sosiale konstruktivisme, naamlik dat kognitiewe strukture hoofsaaklik deur middel van taal en sosiale interaksie gekonstrueer word. R5 het ’n bekommernis met ons gedeel dat tegnologie een van die belangrikste elemente van die onderwys kan bedreig, naamlik die impak wat onderwysers op die lewens van hulle skoliere kan hê. In hierdie verband maak R5 die stelling:

Dit was nog altyd my benadering om van myself te gee en ’n goeie invloed op kinders te wees. Jy werk nie net met vakinhoud nie, maar met die mens. Jy moet probeer om lewenslesse in te werk in elke les wat jy gee. Op die ou einde van die dag is dit die goed wat ’n impak maak en wat leerders onthou.

Uit die waarnemings van R5 blyk dit dat indien tegnologie binne die taalonderrigruimte geïntegreer word, dit op só ’n wyse moet geskied dat die mentorrol van die onderwyser beskerm word en dat tegnologie op ’n verantwoordelike wyse geïntegreer word, wat uiteindelik die interaksie tussen die leerder en die onderwyser verhoog en nie kniehalter nie. Die argumente van R5 sluit aan by Prickel (2000:4) wat die interaktiewe betrokkenheid van die persoon in die gesamentlike konstruering van kennis beaam. Met hierdie perspektiewe stem R7 volkome saam en sê:

Ek dink mens kry baie charismatiese onderwysers, wat nie tegnologie nodig het om ’n kind te stimuleer nie. Jy moet versigtig wees en jy moet jouself vra of jy tegnologie gebruik bloot om die klaskamer lekker te maak, of gebruik jy dit om die leerder se kennis uit te brei?

Alhoewel die meerderheid van die onderwysers saamstem dat die gedeeltelike gebruik van tegnologie in die taalonderrigruimte, dit wil sê om die aanwending van tegnologie “bloot as ’n hulpmiddel te gebruik, wat jou kan help om sekere doelwitte te bereik,” soos bewoord deur FD1, is daar wel ’n paar onderwysers wat nie ten gunste van vervlegte leer in die taalklas is nie. R7 is byvoorbeeld oortuig dat “party onderwysers ’n totale aversie teen tegnologie [het]” en veronderstel dat dit nie wys sal wees om só ’n pedagogiese kopskuif met betrekking tot ’n moderne onderrigbenadering op nie-belangstellende opvoeders af te dwing nie. R4 artikuleer weer haar vrese aangaande die gebruik van tegnologie in die taalklas deur te noem dat sy “definitief ongemaklik voel met tegnologie omdat [sy] nie daarmee grootgeword het met betrekking tot die onderwys nie”.

Hierdie vrese word ook bevestig deur drie ander respondente (R6, FD2 en FD3) wat erken dat hulle ’n bietjie geïntimideerd voel deur tegnologie en beklemtoon dat die infasering van hierdie nuwe praktyk hulle dikwels nutteloos laat voel en derhalwe ervaar hierdie onderwysers dat hulle bekwaamheid as sodanig negatief beïnvloed word. FD3 erken dat die gebruik van klaskamertegnologie haar “angstig [maak] as [sy] voel [sy] is eintlik veronderstel om dit te doen”. Hierby sluit FD1 as volg aan: “Ek dink die wêreld van tegnologie en die moontlikhede wat dit inhou is so groot dat dit intimiderend is en dan is dit makliker om te bly met dit wat jy ken en waarmee jy vertroud is.” Hierdie omskrywings word verhelder deur ons studie se verwysing na Wang e.a. (2004:231‒52) se definiëring van onderwyserperspektiewe aangaande tegnologie-integrasie as “selfvertroue ten opsigte van tegnologiegebruik”. Binne hierdie beskouing tree die onderwyser se vermoë, asook gemaksone met betrekking tot tegnologie-integrasie, op die voorgrond.

FD3 beklemtoon dat indien vervlegte leer teen ’n stadiger pas in die skool geïntegreer word, dit dan dalk minder vreesaanjaend sou wees. In hierdie verband sê sy: “Dit is nie ’n vinnige proses nie, maar ’n tydsame een.” R6 beaam ook die veronderstelling dat vervlegte leer op ’n meer organiese wyse by onderwysers moet posvat en dat niemand moet ervaar, soos deur R6 verwoord, dat “jy móét aanpas, en as jy nie aanpas nie, is jy verkeerd”. R3 vat die gedagtes van FD3 en R6 goed saam deur te sê dat “in praktyk neem dit soms ’n bietjie langer [vir opvoeders] om aan te pas en te leer wat werk en wat werk nie. Ons moet ontdek soos wat ons aangaan en nie eensklaps als probeer verander nie, maar verandering stelselmatig integreer.”

Een van die grootste struikelblokke vir die integrasie van tegnologie is dus die onsekerheid wat dikwels gepaard gaan met die gebruik van tegnologie, veral vir diegene wat nie aanvanklik in hulle onderrigloopbaan daaraan blootgestel is nie. Die onsekerhede veroorsaak oënskynlik vrees en alhoewel die meeste onderwysers die waarde van tegnologie-integrasie as ’n hulpmiddel in die taalonderrigruimte raaksien, oorskadu die angs wat deur vernuwing veroorsaak word, die aktiewe en effektiewe infasering van onderrigleertegnologieë in 21ste-eeuse onderrig- en leerpraktyke.

5.4 Die gebruik van tegnologie in die taalonderrigruimte

Tegnologie in die klaskamer kan gebruik word om die leerervaring te verdiep en te verryk. Volgens Strydom (2017:1‒2) kan vervlegteleerbenaderings binne die KABV met taalonderrig deur middel van noukeurige beplanning geïntegreer word. Die gebruik van tegnologie binne die raamwerk van die KABV veronderstel dat tegnologie nie bloot as ’n plaasvervanger optree vir tradisionele onderrigmetodes nie, maar ’n transformerende uitwerking op onderrig en leer het.

In hierdie afdeling sal gepoog word om te bepaal hoe die onderwysers wat aan hierdie studie deelgeneem het tegnologie in hulle lesaanbiedings integreer om uiteindelik die onderrig van luister-, praat-, lees- en skryfvaardighede, soos ingesluit in die KABV (DvO 2011:9), op ’n vernuwende wyse aan te bied.

Aangesien tegnologie voorsiening maak vir take wat voorheen nie moontlik of uitvoerbaar was nie, kan die SAMR-model (Figuur 1) gebruik word om te bepaal of die integrasie van tegnologie binne die taalonderrigruimte bloot as ’n plaasvervanger vir tradisionele metodes optree en tot watter mate tegnologie werklik aangewend word om leer te herdefinieer. Die model kan nuttig gebruik word om te evalueer tot watter mate die betrokke deelnemers aan hierdie ondersoek ’n vervlegteleerbenadering met betrekking tot taalvaardighede, soos uiteengesit in die KABV (DvO 2011:9), in hul eie praktyk aanvaar het. Die doelstelling vir die sinvolle integrasie van tegnologie is om as ’n instrument op te tree vir die ontwerp van nuwe take wat voorheen nie moontlik was nie.

Puentedura (2015) se SAMR-model, wat ontwerp is om ’n hoë vlak van tegnologiegebruik aan te moedig, kan as ’n spektrum vir tegnologie-integrasie beskou word. Die afkorting SAMR staan vir Substitution (Vervanging), Augmentation (Toepassing/Verandering), Modification (Verbetering) en Redefinition (Herdefiniëring). Aan die een kant word tegnologie gebruik as ’n blote vervanging vir tradisionele gereedskap en aan die ander kant maak tegnologie-ervarings moontlik wat voorheen onmoontlik was. Die onderstaande figuur toon aan dat herdefiniëring, volgens die SAMR-model, die uiteindelike mikpunt vir beduidende taakherontwerp voorstel:

Figuur 1. SAMR-model (Puentedura, 2015)

Die volgende tabelle (3 tot 6), wat deur ons ontwerp is, dui aan hoe die deelnemers tydens die onderhoude aangedui het watter aspekte van vervlegteleerbenaderings hulle in hul onderskeie klaskamers gebruik om taalonderrig binne die konteks van die KABV te herontwerp. In die eerste en tweede kolom van elke tabel is ’n oorsig van die tipe vervlegteleerbenaderings wat deur die onderskeie respondente in die klaskamer gebruik is om unieke take te ontwerp. In die derde kolom word die vlak van hierdie onderskeie vervlegteleerbenaderings aangedui, gebaseer op die SAMR-model, ten einde te bepaal of die aanneming van vervlegteleerbenadering s’n sinvolle verandering met betrekking tot die onderrig- en leerdinamika in die taalonderrigruimte teweeg gebring het. In die laaste kolom word die getal respondente aangedui wat hierbinne val.

Tabel 3. Vaardigheid – Luister en Praat

Vervlegteleer-benadering

Omskrywing

SAMR-vlak

Onderwyserdeelnemers wat hierdie metode toepas

Podsending

Moderne verwerkings van Afrikaanse literatuur waarna daar in die klas / by die huis geluister word.

Afrikaanse gedigte wat as liedjies verwerk is word vir die leerders gespeel.

Toepassing

3

Padlet

Projek: Crossing Borders.

Skakel met ’n internasionale skool waartydens beide skole tradisionele plaaslike liedjies op Padlet plaas en die leerders van die verskillende skole dan interaktief met mekaar skakel.

Herdefiniëring

1

Elektroniese mondeling

Leerders moes in groepsverband ’n elektroniese mondelinge klankopname maak deur gebruik te maak van agtergrond-musiek, klanknabootsing en elektroniese stemeffekte.

Herdefiniëring

1

 

Tabel 4. Vaardigheid – Lees en Kyk

Vervlegteleer-strategie

Omskrywing

SAMR-vlak

Onderwyserdeel-nemers wat hierdie metode toepas

Blog

Tydens klas is ’n artikel oor herwinning gelees en daarna is ’n blog geskep waarop die leerders een wenk moes skryf. Video’s en foto’s kon ook daarop geplaas word. Die taak was soortgelyk aan ’n elektroniese plakkaat.

Toepassing

1

Tablet

Lees via ’n aanlyn platform.

Vervanging

1

Beeldprojeksies en videomateriaal

Konteks vir literêre werke wat buite die leerders se verwysingsraamwerk val, word aan leerders geskets deur middel van beeldprojeksies en videomateriaal.

Toepassing

2

 

Tabel 5. Skryf en Aanbied

Vervlegteleer-strategie

Omskrywing

SAMR-vlak

Onderwyser-deelnemers wat hierdie metode toepas

Google Forms

Google Forms word gebruik om sekere vlakke van aktiwiteite op te stel. Elke keer as ’n leerder ’n sekere kognitiewe vlak se aktiwiteite voltooi het, kan hulle toegang kry tot die skakel van die volgende stel aktiwiteite.

Toepassing

2

Outentieke take op elektroniese platforms

Leerders voltooi ’n transaksionele teks (resensie) op ’n outentieke platform (Tripadvisor). Die onderwyser assesseer die taak op die elektroniese platform en klasmaats kan ook aanlyn op mekaar se resensies kommentaar lewer.

Herdefiniëring

1

Sosiale media

Onderwerpe word aan leerders gegee waaroor hulle op sosialemediaplatforms (soos Facebook, Twitter en Instagram) inskrywings moet maak. Leerders kan ook op mekaar se skakels kommentaar lewer.

Toepassing

2

 

Tabel 6. Taalstrukture en -konvensies

Vervlegteleer-strategie

Omskrywing

SAMR-vlak

Onderwyserdeel-nemers wat hierdie metode toepas

Longman-HAT en ander aanlyn taalspeletjies

Taalspeletjies wat ooreenstem met die kurrikulumdoeleindes en waar leerders intyds terugvoering op hulle antwoorde kan ontvang.

Herdefiniëring

3

Woordeboek-toepassings

Leerders gebruik woordeboektoepassings op hulle selfone vir vertaalwerk en redigering van spelling.

Vervanging

5

Omgekeerde-klaskamertegniek

Lesinhoud word op verskeie aanlyn platforms elektronies vir leerders gebied. Daar word verwag dat leerders aktiwiteite by die huis voltooi / deur die lesinhoud werk (soms in samewerking met ander leerders) en dan word konsolidasiewerk in die klas behartig.

Herdefiniëring

2

 

Die bostaande tabelle illustreer die wyse waarop die deelnemende onderwysers vervlegteleerpraktyke in hulle klaskamers toepas. Die vervlegteleerbenaderings wat deur die betrokke deelnemende onderwysers in die taalonderrigruimte op uiteenlopende wyses toegepas is, kan belyn word met die KABV (DvO 2011:11) se aanbeveling dat onderwysers tydens die onderrig van taalstrukture die volgende beginsels in gedagte moet hou:

  • Taalleer behoort so aangebied te word sodat tekste in konteks geskep kan word. Dit het dus betrekking op realistiese taal.
  • Die toepassing van taalleer behoort nie beperk te word tot die ontleding van geïsoleerde sinne nie – dit behoort die wyse te verduidelik waarop sinne gestruktureer is om volledige tekste soos stories, opstelle, briewe en verslae, wat leerders lees en skryf, te konstrueer.
  • Die gebruik van geloofwaardige materiaal soos dialoë, onderhoude, ens. moet aangemoedig word.

Die analise van die wyse waarop die onderwyserdeelnemers dus vervlegteleermetodes in die klaskamer toepas, dui daarop dat sommige onderwysers tegnologie gebruik om vlakke van herdefiniëring volgens die SAMR-model te bereik, terwyl ander weer tegnologie as ’n aanvullende bron aanwend ten einde tradisionele leerpraktyke te moderniseer.

Die argument wat ons in hierdie verband huldig dui daarop dat die optimalisering van vervlegteleerbenaderings volgens die SAMR-model noodsaaklik is om sodoende kwaliteitonderrig en innoverende onderrig te bevorder.

Hiermee verwys ons na onderrig wat ’n sosiale interaktiewe omgewing, die behoefte aan selfgerigteleerruimtes, die noodsaaklikheid om kursusinhoud by leerdervaardighede aan te pas en sodoende beide die leerder en die onderwyser as aktiewe agente in die leerproses te betrek, as sentrale beginsels van onderrig en leer erken. Daar ontstaan dus ’n teenstrydigheid tussen vervlegteleerpraktyke wat in die klaskamer aangewend word en ’n teoretiese motivering vir die onderwysers se praktyke in hierdie verband. Die gevare wat hierdie ontkoppeling inhou, behels die aanneming van praktyke wat nie belyn word met die uitkomste van ’n sinvolle vervlegteleeromgewing nie.

5.5 Kontekstuele faktore met betrekking tot vervlegteleerintegrasie binne die taalonderrigruimte

Hierdie afdeling ondersoek en omskryf die verhouding tussen vervlegteleerintegrasie en die kontekstuele faktore wat tegnologiese innovasie rig. Alhoewel die meerderheid van die onderwyserdeelnemers in hierdie studie aangedui het dat hulle positief ingestel is teenoor die integrasie van tegnologie in die taalonderrigruimte, kom die werklikheid binne die taalonderrigruimte egter nie altyd ooreen met hierdie visie nie. Die moontlike verklaring vir hierdie gaping tussen die visie en die werklikheid, is dat die implementering van tegnologie dikwels verskeie uitdagings vir die onderwyser inhou. Die volgende is deur die onderwyserdeelnemers voorgehou as remmende faktore van ’n vervlegte-onderrigleerbenadering: tyd, infrastruktuur en selfvertroue. Elk van hierdie faktore word vervolgens bespreek.

5.5.1 Tyd

R3 lig die problematiek van tyd soos volg uit:

Ek wens net daar was meer tyd. Dit is ’n groot hekkie. Om vertroud te raak met tegnologie en hierdie wyse van klasgee het jy tyd en oefening nodig. Met so baie assesserings en gevolglik baie nasienwerk, veroorsaak dit dat daar eenvoudig nie tyd is vir ander goed nie. Daar is nie eers eintlik tyd vir die vaslegging van die werk nie, jy hoop maar almal bly by, want jy moet tog net by die toets uitkom.

Ses onderwyserdeelnemers (R1, R2, R3, R6, R7 en R8) beklemtoon dat daar verskeie faktore is wat bydra tot beskikbare tyd as een van die mees beduidende remfaktore vir die bevordering van vervlegteleerintegrasie. Hierdie faktore verwys na veranderlike lestye as gevolg van aanpassings op die skoolrooster vir die betrokke dag. R1 vertel soos volg dat die skooldag soms onvoorspelbaar is: “Jy kom [by die skool] aan in die oggend en vind uit die periodes is soveel minute korter en dan val jou beplanning deur die mat.” Hierdie stelling word bevestig deur R7, wat stel dat “periodes dikwels wispelturig [is], soms is dit langer, soms korter. Dit maak die onderwyser se beplanning moeilik.”

R8 verduidelik soos volg dat behalwe vir beperkte lestyd, die opstel van elektroniese toestelle met die nodige toegang tot Wi-Fi-kodes ook negatief op kosbare lestyd kan impakteer: “I find it stressful and chaotic.”

Beperkte tyd lei dan tot verhoogde spanning om deur al die kurrikulumvereistes te werk voordat die toets- en eksamentye begin. FD1 sê in hierdie verband:

Ek dink hoe nader mens kom aan die eksamen, hoe meer bewus raak jy van tyd wat min is en dan wil jy net seker maak die inhoud word behandel. Ek dink eksamens en assesserings veroorsaak druk.

Spanning veroorsaak gevolglik dat onderwysers eerder terugval op tradisionele metodes waarmee hulle meer op hulle gemak voel ten einde seker te wees dat alle werk wel betyds met die leerders behandel word. FD2 beaam die argument van FD1 en is van mening dat “ons nie tyd [het] om te speel nie. Ons het werk wat moet klaarkom en daar is nie ruimte om goed aan te bied op wyses wat jy meer met goed buite jou gemaksone eksperimenteer nie.” FD3 beklemtoon ook dat onderwysers nie kreatief oor lesaanbiedings kan dink wanneer daar groot druk as gevolg van beperkte tyd is nie. Die woorde van R1 vertel iets van hierdie druk: “As ek nie gedwing word om so iets te doen nie, sal ek nooit daarby uitkom nie.”

5.5.2 Infrastruktuur

Drie onderwyserdeelnemers (R3, R6 en R7) verwys na die ontwerp van klaskamers wat nie altyd gunstig is vir die integrasie van vervlegte leer nie. R7 verduidelik dat “klaskamers nie so uitgelê [is] om die gebruik van tegnologie te fasiliteer nie”. R7 verduidelik voorts dat vervlegte leer ook samewerking tussen leerders bevorder en dat individuele houtbankies groepswerk belemmer. Hierdie stelling word deur R8 beaam: “My classroom is also not suited for group activities. It feels very unorganized and unstructured.” R6 illustreer hoe “lang klasse [klaskamers] waar kinders ver agtertoe sit, dit moeilik [maak] om almal by die lesse te betrek”. Beide R3 en R6 noem ook dat ’n tekort aan klaskamers beteken dat sommige onderwysers tussen lokale moet wissel, wat ook ’n remfaktor vir die integrasie van tegnologie vir daardie betrokke onderwysers is. Hierdie stelling word gegrond op R3 en R6 se waarnemings dat nie alle klasse noodwendig met die nodige tegnologie toegerus is om vervlegteleerpraktyke te integreer nie.

R7 verwys ook na die internetkonneksie wat nie altyd betroubaar is nie: “Jy sal altyd ’n plan B moet hê en dit skakel weereens met tyd, wat ons nie het nie.” Hierdie faktor word egter onder die onderwyserdeelnemers betwis. R2 behou die volgende siening oor die vereiste infrastruktuur om sinvolle vervlegteleerintegrasie by die betrokke skool waar die studie onderneem is, te bevorder: “Wat infrastruktuur aanbetref, het ons baie goeie fasiliteite. Internettoegang is maklik en ondersteuning met betrekking tot tegnologie-integrasie is beslis teenwoordig.”

Hierdie siening word soos volg deur R6 ondersteun:

Ek dink ’n voordeel is dat ons redelik baie hulpbronne het wat reeds tot ons beskikking is. Ons het ’n wonderlike leersentrum met baie rekenaars, meeste van die klasse is toegerus met die nodige tegnologie (rekenaars, projektors, luidsprekers) alles wat die onderwyser kan benodig. Ons het natuurlik nie al die hulpbronne wat baie bevoorregte skole het soos tablette vir elke kind of skootrekenaars nie. Ons is wel in ’n baie bevoorregte posisie waar ons baie hulpbronne het wat ons lewe kan vergemaklik as ons dit effektief gebruik.

’n Faktor aangaande die infrastruktuur waaroor vier onderwyserdeelnemers (R2, R6, R8 en FD2) saamstem, is dat die leerdertablette wat in twee lokale gestoor word en deur onderwysers uitgeteken kan word, nie effektief aangewend word nie. Die redes wat deur die onderwyserdeelnemers aangevoer word, is dat die uit- en inteken, asook die opstel van die toestelle, te veel tyd in beslag neem. “Dit is soms net makliker om die harde kopie in hulle hand te druk” (FD2).

R1, 2 en 6 argumenteer dat die onderwyser ook nie kan aanneem dat alle leerders noodwendig slimfone het wat die gebruik van toepassings in die klaskamer moontlik gaan maak nie. Hierdie stelling hou verband met die uiteenlopende en diverse kontekste van Suid-Afrikaanse skole wat ’n beduidende invloed op die integrasie van vervlegteleerpraktyke sal uitoefen. Wanneer aksieplanne vir vervlegteleerintegrasie ontwerp word, is dit van uiterste belang dat die skoolkonteks noukeurig in ag geneem word.

5.5.3 Selfvertroue

’n Verdere kontekstuele faktor wat die implementering van vervlegte leer in ’n skool kan bevorder of beperk, is onderwysers se selfvertroue met betrekking tot die gebruik van tegnologie vir akademiese doeleindes.

R3 lig haar eie selfvertroue oor hierdie aspek soos volg toe:

My eie selfvertroue speel definitief ’n groot rol. Ek voel onseker en simpel om vir hulp te vra. Ek sê nie die mense wat veronderstel is om ons te help is ontoeganklik nie, mens voel net soms jy is eintlik veronderstel om iets al te weet.

R3 se waarneming dat ’n onderwyser se selfvertroue ’n belangrike kontekstuele faktor is om te oorweeg in vervlegteleerintegrasienavorsing, hou direk verband met die hooffokus van hierdie studie, naamlik dat onderwyserperspektiewe uiteindelik ’n deurslaggewende faktor is vir die integrasie van vervlegte leer in die onderrigleerruimte. Onderwysers se perspektiewe oor vervlegte leer kan beduidend deur hul selfvertroue met betrekking tot die integrasie van tegnologie as onderrig- en leerbenadering beïnvloed word.

Dit is daarom belangrik om ag te slaan op onderwysers se onsekerhede en vrese, soos gekommunikeer deur R6:

Daar is iets van tegnologie wat my bang maak, dit voel asof dit meer werk gaan wees, meer voorbereiding om al die goed te doen. Dalk omdat ek nie so vertroud is met die metodes nie. Ek dink nie dit is ’n prioriteit in ons departement om te vernuwe nie, maar eintlik word daar eerder geskop daarteen. Dit word afgemaak as “minder effektief” omdat dit dalk bietjie vreesaanjaend is.

Beide R6 en R7 benadruk inderwaarheid indirek die belangrike rol wat opleiding speel om hierdie vrese te oorbrug en onderwysers se selfvertroue op te bou. R6 sê spesifiek:

Verskillende tipes opleiding [moet] afhangende van waar mense is met betrekking tot die gebruik van tegnologie, aangebied word. Party mense moet dalk eers leer hoe om die instrumente te gebruik en ander moet leer hoe dit opvoedkundig gebruik kan word. Ook om te weet hoe mens bestaande hulpbronne by die skool effektief kan gebruik.

R7 waarsku voorts dat tegnologie en vervlegteleermetodes nie staties is nie. Derhalwe sal opleiding deurlopend moet plaasvind. In hierdie verband sê R7: “Saam met die vooruitgang in tegnologie verander die lesinhoud wat jy volgens hierdie benadering uitwerk en daarom moet jy bereid wees om aan te hou aanpas en verander.”

Soos onderwysers meer vertroud raak met vervlegteleerpraktyke en nuwe tegnologie, sal daar al meer innoverende metodes ten opsigte van tegnologie-integrasie ontwikkel. Hierdie ontwikkelings veronderstel dat die professionele ontwikkeling van die onderwyser en die ontwikkeling van nuwe vaardighede wat verband hou met moderne onderrigpraktyke, as ’n kontinuum van ontwikkeling beskou word.

5.6 Samevatting

Binne hierdie afdeling is Garrison en Kanuka (2004:99) se argument beklemtoon dat vervlegte leer inherent oor die heroorweging en herontwerp van die onderrig-en-leer-verhouding handel. Dit het duidelik uit die onderwyserperspektiewe geblyk dat betekenisvolle leerderbetrokkenheid binne die taalonderrigruimte een van die grootste dryfvere vir vervlegteleerintegrasie is. Ons het egter teenstrydighede met betrekking tot die onderwyserdeelnemers se strewe na leerdergesentreerde onderrigleer geïdentifiseer, waar die onderrigideale met betrekking tot die verpersoonliking van leer en die daadwerklike implementering en toepassing van hierdie opvoedkundige ideale binne die taalonderrigruimte verskille toon. In hierdie verband is daar verskeie faktore uitgelig wat teenstrydighede tussen die onderwyserperspektiewe en die uiteindelike klaskamerpraktyke kan veroorsaak.

In die literatuuroorsig wat in hierdie studie aangebied is, is onder andere na Borg (2015:2) verwys, wat aanvoer dat onderwysers se perspektiewe hul klaskamerpraktyke beïnvloed, met kontekstuele faktore wat ’n belangrike rol speel in die bepaling van die mate waartoe onderwysers in staat is om instruksies wat eenstemmig is met hul perspektiewe te implementeer. Daarbenewens het ons binne hierdie bespreking sommige van die kontekstuele faktore wat ’n invloed op die onderwyserdeelnemers se vervlegteleerpraktyke uitoefen, uitgelig.

In hierdie studie beklemtoon ons dat beperkings in die onderwyser se pedagogiese kennis met betrekking tot vervlegte leer ’n beduidende invloed op onderwyserperspektiewe aangaande die onderrig- en leerbenadering sal uitoefen. Ons identifiseer die volgende kettingreaksie wat ontstaan wanneer oppervlakkige opvattings aangaande die onderrig- en leerbenadering die klaskamerpraktyke van die onderwyser onderling inlig:

Figuur 2. ’n Kettingreaksie weens beperkte pedagogiese kennis aangaande vervlegte leer

Verskeie bekommernisse wat deur die onderwyserdeelnemers uitgelig is, spruit gedeeltelik uit beperkte kennis oor die omvang van dié pedagogiese benadering. Hierdie beperkte verstaan van sinvolle vervlegting, met die doel om uiteindelik leerderbetrokkenheid in die konstruering van eie kennis te verhoog, lei dikwels tot negatiewe persoonlike ervarings. Hierdie ervarings kan voortgesette tegnologie-integrasie kelder en ook die onderwyser en leerder daarvan weerhou om die volle spektrum van moontlikhede wat sinvolle tegnologie-integrasie bied, te ontsluit.

 

6. Aanbevelings

Hierdie studie het onderwyserperspektiewe ondersoek wat moontlik ’n invloed kan hê op onderwysers se bereidwilligheid om vervlegteleerpraktyke aan te neem en in die taalklas uit te oefen. Die literatuuroorsig wat in hierdie studie aangebied is, dui daarop dat die invloed wat hul beskouinge of perspektiewe moontlik op die verbetering van hul onderrigpraktyke kan uitoefen, wyd gedokumenteer is. Hierdie beskouinge is ook skynbaar nou gekoppel aan onderwysers se strategieë om die uitdagings in hulle daaglikse professionele lewens te hanteer (Pajares 1992:310). Schommer-Aikins (2004:22) bevestig dat pogings om opvoedkundige verandering teweeg te bring, soos byvoorbeeld die integrasie van vervlegte leer binne die taalonderrigruimte, nie ten volle sal realiseer tensy spesifieke pogings aangewend word om onderwysers se perspektiewe vas te stel ten einde hierdie kwessie aan te spreek nie.

In die lig van hierdie argumente word daar aanbeveel dat die inagneming van onderwysers se perspektiewe as een van die kernoorwegings ten opsigte van vervlegte leer as onderrig- en leerstrategie deur opvoedkundige beleidshervormers opgeneem word en in beleidsraamwerke geïntegreer word.

6.1 Aanbevelings ter oorbrugging van kontekstuele faktore wat vervlegteleerintegrasie benadeel

Dit blyk vir ons duidelik uit die bevindinge van hierdie studie dat onderwysers binne die konteks van die betrokke skool uiteenlopende kontekstuele faktore moet oorbrug ten einde tegnologie op sinvolle maniere as onderrig- en leerbenadering in die klaskamer te integreer. Die remfaktore wat deur die onderwyserdeelnemers in hierdie ondersoek omskryf is, is tyd, infrastruktuur en selfvertroue, wat moontlik struikelblokke kan wees. Die volgende aanbevelings en moontlike oplossings word voorgestel ter oorbrugging van die bogenoemde struikelblokke.

Onderwysers ervaar dat ’n tekort aan tyd die integrasie van vervlegteleerpraktyke inhibeer. Een van die vernaamste kwelpunte wat uit die onderhoudsessies met die onderwyserdeelnemers na vore gekom het, is dat die ekstrakurrikulêre lading, tesame met taalonderwysers se groot hoeveelhede nasienwerk, die kreatiewe herontwerp van lesplanne volgens vervlegteleerstrategieë ’n enorme uitdaging maak. Ons maak die volgende aanbevelings om hierdie uitdaging ten opsigte van tyd te oorkom:

  1. Gestruktureerde tye moet as deel van die amptelike skoolrooster vir vervlegteleergemeenskappe toegeken word om te vergader. Binne die skoolkonteks van die deelnemende skool word aanbeveel dat vakgerigte leergemeenskappe op ’n roterende rooster tydens weeklikse saalperiodes vergader. Tydens hierdie byeenkomste kan spesifieke lesplanne aangebied word wat volgens vervlegteleerbenaderings ontwerp is, waarna geleenthede vir kritiese refleksie en leerderterugvoer geskep kan word.
  2. Daar word aanbeveel dat onderwyserverteenwoordigers, wat ’n leidende rol in die vervlegteleer-klusterkomitees en vakgerigte leergemeenskappe vertolk, tydens die aanvanklike beplanningsfase van vervlegteleerintegrasie studieverlof ontvang om voldoende tyd aan die kurrikulumbeplanning van die verlangde vervlegteleerstrategieë te bestee.
  3. Daar word aanbeveel dat duidelike doelstellings vir vervlegteleerintegrasie in elke vakgroep bepaal word en dat spesifieke tydsraamwerke saamgestel word. Noukeurige beplanning met realistiese tydsraamwerke sal vervlegteleerintegrasie vir die onderwyser vergemaklik en die haalbaarheid van die doelstellings verhoog.

Die tweede kontekstuele faktor wat tydens die onderhoudsessies deur die onderwyserdeelnemers geopper is, is die infrastruktuur wat benodig word vir die suksesvolle integrasie van ’n vervlegteleerbenadering. Die meerderheid onderwyserdeelnemers het saamgestem dat die huidige infrastruktuur, soos ’n goed toegeruste leersentrum met rekenaars en internettoegang, ’n rekenaar, ’n projektor, ’n skerm en internettoegang in byna alle klasse en ongeveer 60 leerdertablette wat deur onderwysers uitgeteken kan word, reeds baie moontlikhede ontsluit met betrekking tot die bevordering van vervlegteleerintegrasie. Struikelblokke wat egter volgens die onderwysers die gebruik van vervlegteleerbenaderings bemoeilik, verwys grootliks na die tradisionele uitleg en organisasie van klasse en onbetroubare Wi-Fi-toegang vir die leerders. Die volgende aanbevelings kan moontlike oplossings hiervoor bied:

  1. Daar word aanbeveel dat onderwysers binne hulle onderskeie dissiplines besluit hoe hulle die klaskamer kan herstruktureer om interaktiewe leer binne klasverband te bevorder. Hierdie planne kan aan die SBL voorgelê word en binne vervlegteleerintegrasieplanne geïntegreer word.
  2. Daar word aanbeveel dat vervlegteleerklusters en vervlegteleergemeenskappe meer klem op die gebruik van die omgekeerdeklaskamertegniek moet plaas en opleiding bied om onderwysers te ondersteun om hierdie vervlegteleerbenadering te bemeester en effektief in die klaskamer aan te wend. Die omgekeerdeklaskamerbenadering kan onderwysers in staat stel om vervlegteleerbeginsels, soos onafhanklike leer deur tegnologies-gesteunde benaderings, binne die taalonderrigruimte toe te pas sonder die onmiddellike herstrukturering van die fisiese klaskamerruimte.

Onderwysers se onsekerheid oor hulle eie vermoëns om tegnologie met selfvertroue in die klas te integreer, is ’n ernstige remfaktor of struikelblok vir die integrasie van vervlegte leer binne die deelnemende skool. Ons verwys in hierdie verband na Vandeyar en Killen (2006:30) wat argumenteer dat onderwyserperspektiewe as bepalers vir handelinge beskou word omdat dit onderwysers se oordele beïnvloed en daarom is die natuurlike neiging om op maniere op te tree wat daardie perspektiewe versterk. Onderwysers wat min selfvertroue met betrekking tot tegnologiegebruik vir akademiese doeleindes het, mag dus geneig wees om vervlegteleerbenaderings in die klaskamer te vermy, of tegnologie-integrasie te beperk tot die basiese gebruik van MS PowerPoint-aanbiedings en YouTube-video’s.

Al die onderwyserdeelnemers aan hierdie studie het saamgestem oor die belangrike rol van opleidingsgeleenthede ter ondersteuning van vervlegteleerintegrasie. Daar word dus aanbeveel dat gestruktureerde opleidingsessies as deel van die beplanningsfase van vervlegteleerintegrasie in skole bygereken word. Hierdie opleidingsgeleenthede moet voorsiening maak vir onderwysers wat moontlik oor uiteenlopende vaardigheidsvlakke met betrekking tot tegnologiegebruik beskik, en hulle van duidelike raamwerke en riglyne voorsien oor hoe vervlegteleerpraktyke met die doelstellings van die KABV belyn kan word. Daar word aanbeveel dat opleidingsgeleenthede die geleentheid aan onderwysers bied om gedeelde doelwitte, verwagtinge en perspektiewe aangaande die integrasie van tegnologie in die klaskamer te ontwikkel. Hierdie gedeelde perspektiewe moet egter ook met leerderperspektiewe belyn word ten einde die optimale integrasie van vervlegteleerpraktyke in die klaskamer te verwesenlik.

Gedurende hierdie opleidingsessies is dit ook belangrik dat onderwysers opgelei word in navorsingsgesteunde opvoedkundige teorieë oor vervlegteleerpraktyke. ’n Breedvoerige teoretiese basis, wat deur kundiges op die gebied van vervlegte leer as onderrig- en leerbenadering tydens opleidingsgeleenthede met onderwysers gedeel word, is noodsaaklik voordat pogings aangewend word om hierdie vernuwende benadering in die klaskamer toe te pas. Hierdie argument word gesteun op ons mening dat ’n gebrekkige begrip en teoretiese basis van vervlegte leer tot gebrekkige toepassing van die benadering in die onderrigleerruimte kan lei. Indien onderwysers slegs ’n oppervlakkige begrip van die teoretiese onderbou van vervlegting het, kan hierdie beperkte begrip uiteindelik ook hulle persepsie oor die geslaagdheid van die leerbenadering beïnvloed. Ons waarneming tydens die onderhoudproses was dat die deelnemende taalonderwysers as kundiges binne hulle vakgebied beskou kan word en dat hulle heeltemal in staat is om, met genoegsame ondersteuning, meer transformerende ideologieë ten opsigte van vervlegteleerpraktyke te ontwikkel en in die taalonderrigruimte toe te pas.

Ter verwesenliking van hierdie doelwit kan hoëronderwysinstellings ’n leidende rol op hierdie gebied speel deur inligting oor die teoretiese aspekte van vervlegte leer en ander tegnologies-gedrewe hervormings te verskaf. Hierdie instellings kan ’n verdere rol speel deur samewerkende verhoudings tussen kundiges op die gebied van die vervlegteleermodel en ervare skoolonderwysers te vestig. Kundiges op die gebied van die integrasie van leertegnologie in die klaskamer kan ’n groot rol speel in die uitbou van so ’n teoretiese onderbou, wat weer vir die onderwyser as grondslag kan dien tot ’n meer sinvolle integrasie van vervlegteleerpraktyke.

6.2 ’n Raamwerk vir vervlegteleerbenaderings tot taalonderrig

Ons het bevind dat die onderrigbesluite wat onderwysers met betrekking tot die gebruik van digitale tegnologie neem van uiterste belang is vir die sinvolle integrasie van vervlegte leer in die taalonderrigruimte. Daar is bevind dat dit tot die onderwyser en die leerder se nadeel is wanneer die taalles gedryf word deur die tegnologie wat gebruik word, eerder as die leerdoelstellings en die pedagogiese benadering tot die les.

Op grond van die hierdie bevindings is die noodsaaklikheid van ’n praktiese raamwerk vir sinvolle vervlegteleerintegrasie geïdentifiseer. Die doelstelling van hierdie raamwerk is om onderwysers op ’n praktiese en toeganklike wyse gedurende die beplanningsfase van die taalles ten opsigte van vervlegteleerbenaderings te ondersteun. Onderwysers moet ook gedurende hierdie beplanningsfase begelei word om vervlegteleerbenaderings met 21ste-eeuse vaardighede te verbind.

Die volgende voorgestelde raamwerk is deur ons, op grond van Mishra en Koehler (2006) se Tegnologiese Pedagogiese Inhoudskennis- (TPIK-) raamwerk, Ruben Puentedura (2015) se SAMR-model en Hutchison en Woodward (2014) se Tegnologie-integrasiebeplanningsiklus vir Taal en Geletterdheid, ontwerp, en integreer ook die behoeftes van die 21ste-eeuse leerder volgens Partnership for 21st century learning (P21 2007:2):

Figuur 3. Vervlegteleerbeplanningsmodel vir taalonderrig aan die 21ste-eeuse leerder

Drill, Miller en Behrstock-Sherratt (2012:11) het bevind dat sekere oorwegings belangrik is vir opvoedkundige navorsing om onderwysers se praktyk te verbeter. Die navorsers beklemtoon dat dit belangrik is dat opvoedkundige navorsing voorbeelde van die toepaslikheid van die navorsing in werklike klaskamersituasies insluit. Dit kan illustrasies en praktiese voorbeelde insluit oor hoe om die navorsingsbevindinge in die praktyk te realiseer.

Op grond van Drill e.a. (2012:11) se aanbeveling kan die voorgestelde model, soos gevisualiseer in die bostaande vervlegteleerbeplanningsmodel vir taalonderrig aan die 21ste-eeuse leerder (Figuur 3), prakties toegepas word tydens die beplanningsfase van ’n taalles. Hierdie model kan soos volg toegepas word:

Tabel 7. Lesraamwerk op grond van vervlegteleerbeplanningsmodel

Onderrigdoel

Transaksionele skryfwerk (die resensie):

Leerders skryf hulle eie aanlyn resensie nadat hulle in groepsverband aanlyn voorbeelde van resensies gelees het en belangrike kenmerke van ’n goeie resensie geïdentifiseer het.

Onderrigbenadering

Digitale leer; sosiale konstruktivisme

21ste-eeuse vaardigheid

Leer- en vernuwingsvaardighede en inligting-, media- en tegnologiese vaardighede

Gereedskapseleksie

Padlet (SAMR-vlak: herdefiniëring)
Leerdertablet

Beperkings

Watter kontekstuele faktore sal die doelstellings van die les beperk/steur (byvoorbeeld onbetroubare internettoegang of leerdervaardigheidsvlakke)?

Onderrig

Gaan voort met die les indien die verskeie elemente met die onderrigdoel belyn word.

 

Deur die gebruik van hierdie vervlegteleerbeplanningsmodel (Figuur 3) sal onderwysers bemagtig voel om deeglik te oorweeg hoe en wanneer om digitale gereedskap in hul eie taalklaskamers te gebruik om spesifieke onderrigdoelwitte binne die konteks van die 21ste eeu te behaal. Die beplanningsiklus kan taalonderwysers in staat stel om deur middel van kritiese refleksie die gebruik van vervlegteleerpraktyke met onderrigdoelwitte te integreer. ’n Geleentheid vir professionele ontwikkeling met betrekking tot die beplanning vir vervlegteleerbenaderings tot taalonderrig word ook deur die reflektiewe siklus bevorder.

 

7. Ter afsluiting

Ons het in hierdie studie bevind dat die integrasie van transformerende onderrig- en leerbenaderings in die taalonderrigruimte afhanklik is van onderwysers se perspektiewe wat in hierdie verband erken en aangeroer word. Daarbenewens moet die invloed van onderwysers se persoonlike perspektiewe op hulle onderrigpraktyke nie geringgeskat word nie. Genoegsame geleentheid vir onderwysers om krities oor hulle eie perspektiewe en onderrigpraktyke te reflekteer, moet deur eksterne (nasionale en provinsiale) en interne (skoolverbonde) beleidshervormers geskep word. Ons standpunt dat hierdie onderwyserperspektiewe ’n uiters belangrike rol speel in die beplannings- en implementeringsfase van vernuwende onderrig- en leerbenaderings ten opsigte van vervlegte leer, is deur hierdie studie bevestig.

 

Bibliografie

Al-Huneidi, A. en J. Schreurs. 2017. Constructivism based blended learning in higher education. International Journal of Emerging Technologies in Learning (iJET), 7(1):4‒9.

Anoniem. 2017. Skoolbeleid vir vervlegteleerintegrasie.

Babbie, E. en J. Mouton. 2001. The practice of social research. Kaapstad: Oxford University Press.

Bailey, J., S. Ellis, C. Schneider en T. Vander Ark. 2013. Blended learning implementation guide. https://library.educause.edu/resources/2013/2/blended-learning-implementation-guide (4 September 2017 geraadpleeg).

Bath, D. en J. Bourke. 2010. Getting started with blended learning. https://www.dkit.ie/system/files/Getting%20started%20with%20blended%20learning%20Griffith%20University%20AU_0.pdf (1 Junie 2019 geraadpleeg).

Bolstad, R., J. Gilbert, S. McDowall, A. Bull, S. Boyd en R. Hipkins. 2012. Supporting future-oriented learning & teaching — a New Zealand perspective. Verslag aan die Minister van Onderwys, Nieu-Seeland.

Borg, S. 2003. Teacher cognition in language teaching: A review of research on what teachers think, know, believe and do. Language Teaching, 36(2):81–109.

—. 2015. Teacher cognition and language education: Research and practice. https://books.google.co.za/books?hl=en&lr=&id=h9d4BgAAQBAJ&oi=fnd&pg=PR3&dq=borg+teacher+cognition&ots=s0_fIduHzc&sig=COalB4mot-z-qVPxvgnfVMwV3YQ#v=onepage&q=borg%20teacher%20cognition&f=false (25 Mei 2017 geraadpleeg).

Bryman, A. 2012. Social research methods. 4de uitgawe. Oxford: Oxford University Press.

Burns, N. en S.K. Grove. 2001. The practice of nursing research: Conduct, critique and utilization. Philadelphia: Saunders.

Conradie, T. 2009. Face-to-face talk and synchronous chat as learning tools in tutorial classes. Journal for Language Teaching, 43(1):67–82.

Creswell, J.W. 2003. Research design: Qualitative, quantitative, and mixed methods approaches. 2de uitgawe. Londen, Thousand Oaks, New Delhi: Sage Publications.

Denzin, N.K. en Y.S. Lincoln. 2000. Handbook of qualitative research. Thousand Oaks: Sage Publications.

Departement van Onderwys. 2004. White Paper on e-Education. Pretoria: Staatsdrukker.

—. 2011. Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring: Afrikaans Huistaal. Pretoria: Staatsdrukker.

De Villiers, L. en D. van der Wal. 2004. Researching cultural issues in health care. In Tjale en De Villiers (reds.) 2004.

De Vos, A.S. 1998. Research at grassroots: A primer for the caring professions. Pretoria: Van Schaik.

De Vos, A.S., H. Strydom, C.B. Fouché en C.S.L. Delport (reds.). 2005. Research at grassroots: For the social sciences and human service professions. 3de uitgawe. Pretoria: Van Schaik.

Doll, R.C. 1996. Curriculum improvement: Decision making and process. 9de uitgawe. Boston: Allyn & Baker.

Drill, K., S. Miller, en E. Behrstock-Sherratt. 2012. Teachers’ perspectives on educational research. https://www.researchgate.net/publication/265673454_Teachers'_Perspectives_on_Educational_Research (3 Junie 2019 geraadpleeg).

Fouché, C.B. en C.S.L. Delport. 2005. In-depth review of literature. In De Vos, Strydom, Fouché en Delport (reds.) 2005.

Galvis, H.A. 2012. Understanding beliefs, teachers’ beliefs and their impact on the use of computer technology. https://files.eric.ed.gov/fulltext/EJ1051550.pdf (20 Maart 2019 geraadpleeg).

Garrison, D.R. en H. Kanuka. 2004. Blended learning: Uncovering its transformative power in higher education. The Internet and Higher Education, 7(1):95‒105.

Halverson, L.R., C.R. Graham, K.J. Spring, J.S. Drysdale en C.R. Henrie. 2014. A thematic analysis of the most highly cited scholarship in the first decade of blended learning research. The Internet and Higher Education, 20:20–34.

Henning, E., W. van Rensburg en B. Smit. 2004. Finding your way in qualitative research. Pretoria: Van Schaik.

Hutchison, A. en L. Woodward. 2014. A planning cycle for integrating digital technology into literacy instruction. The Reading Teacher, 67(6):455‒64.

Kim, C., M.K. Kim, C. Lee, M. Spector en K. DeMeester. 2013. Teacher beliefs and technology integration. Teaching and Teacher Education, 29(1):76‒85.

Kivunja, C. en A.B. Kuyini. 2017. Understanding and applying research paradigms in educational contexts. International Journal of Higher Education, 6(5):27–41.

Kukulska-Hulme, A. 2012. Smart devices or people? A mobile learning quandary. International Journal of Learning and Media, 4(3–4):73–7.

Lawrence, D. 2009. CALL and the development of reading skills: Bridging the gap between theory and practice. Journal for Language Teaching, 43(1):84–92.

Leininger, M.M. 1996. Qualitative research methods in nursing. Londen: Grune and Stratton.

Levin, T. en R. Wadmany. 2006. Teachers’ beliefs and practices in technology-based classrooms: A developmental view. Journal of Research on Technology in Education, 39(2):157‒81.

Merriam, S.B. 1998. Qualitative research and case study applications in education. San Francisco, CA: Jossey-Bass.

Mishra, P. en M.J. Koehler. 2006. Technological pedagogical content knowledge: A new framework for teacher knowledge. Teachers College Record, 108(6):1017–54.

Olivier, J. 2013. The accommodation of multilingualism through blended learning in two Information Technology classes. Perspectives in Education, 31(4):43‒57.

Orlikowski, W.J. en J.J. Baroudi. 1991. Studying information technology in organizations: Research approaches and assumptions. Information System Research, 2(1):1‒28.

Osguthorpe, R.T. en C.R. Graham. 2003. Blended learning environments: Definitions and directions. The Quarterly Review of Distance Education, 4(3):227‒33.

Pajares, M.F. 1992. Teachers’ beliefs and educational research: Cleaning up a messy construct. Review of Educational Research, 62(3):307‒32.

Park, S.H. en P.A. Ertmer. 2008. Impact of problem-based learning (PBL) on teachers’ beliefs regarding technology use. Journal of Research on Technology Education, 40(2):247‒67.

Partnership for 21st century learning (P21). 2017. Framework for 21st century learning. http://www.p21.org/our-work/p21-framework (25 Mei 2019 geraadpleeg).

Polly, D., C. Mims, C.E. Shepard en F. Inan. 2010. Evidence of impact: Transforming teacher education with preparing tomorrow’s teachers to teach with technology (PT3) grants. Teaching and Teacher Education, 26(4):863‒70.

Pordjono, P. 2002. Active learning: The Dewey, Piaget, Vygotsky, and Constructivist Theory perspectives. Science Education Journal, 9(3):163‒78.

Prickel, D. 2000. The influence of new and emerging theories on teaching practices. http://oregonstate.edu/instruction/ed553/donart.html (19 Junie 2019 geraadpleeg).

Puentedura, R. 2015. The SAMR model. http://hippasus.com/rrpweblog/archives/2015/10/SAMR_ABriefIntro.pdf (5 Februarie 2019 geraadpleeg).

Rice, L. en E.K. Wilson. 1999. How technology aid constructivism in the social studies classroom. The Social Studies, 90:28‒34.

Schommer-Aikins, M. 2004. Explaining the epistemological belief system: Introducing the embedded systemic model and coordinated research approach. Educational Psychologist, 39(1):19–29.

Schulze, S. 2003. The courage to change: Challenges for teacher educators. South African Journal of Education, 23(1):6‒12.

Singh, H. 2003. Building effective blended learning programs. Educational Technology, 43(6):51–4.

Strydom, S. 2017. Curriculum redesign: Integrating learning technologies. Ongepubliseerde klasnotas (Learning technologies in the classroom 1–7). Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch.

Taylor, R. en M.F. Van der Merwe. 2019. ’n Behoefte aan die integrering van tegnologie in die Afrikaans Huistaal-klaskamer om die ontwikkeling van 21ste-eeuse vaardighede te ondersteun: ’n Gevallestudie. LitNet Akademies, 16(1):295–340. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2019/06/LitNet_Akademies_16-1_Taylor-VanDerMerwe_295-340.pdf (25 Julie 2019 geraadpleeg).

Thomas, D. en J. Seely Brown. 2011. A new culture of learning: Cultivating the imagination for a world of constant change. http://www.newcultureoflearning.com/newcultureoflearning.pdf (19 Junie 2019 geraadpleeg).

Tjale, A.A. en L. de Villiers (reds.). 2004. Cultural issues in health and health care. Kaapstad: Juta.

Vandeyar, S. en R. Killen. 2006. Beliefs and attitudes about assessment of a sample of student teachers in South Africa. Africa Education Review, 3(1–2):30‒47.

Van Huyssteen, J.W. 2004. Alone in the world? Human uniqueness in Science and Technology. Grand Rapids: William B Eerdmans Publishing Company.

Vygotsky, L. 1978. Mind and society: The development of higher psychological processes. Cambridge, MA: Harvard University Press.

Wang, L., P.A. Ertmer en T.J. Newby. 2004. Increasing preservice teachers’ self-efficacy beliefs for technology integration. Journal of Research on Technology in Education, 36(3):231‒52.

 

Eindnotas

1 Die bron is anoniem om die identiteit van die skool en onderwysers privaat te hou.

2 Ontologie verwys na die aannames wat ons maak om te glo dat iets van ’n sosiale verskynsel eg is of om daarvan sin te maak (Kivunja en Kuyini 2017:27).

3 In navorsing verwys epistemologie na die verkryging van kennis (Kivunja en Kuyini 2017:27).

4 Aksiologie verwys na die etiese kwessies wat in ag geneem moet word tydens die beplanning van ’n navorsingsvoorstel (Kivunja en Kuyini 2017:28).

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Taalonderwysers se perspektiewe aangaande vervlegte leer as onderrig- en leerbenadering vir die 21ste-eeuse leerder appeared first on LitNet.

Die estetika van ’n skreeu-lelike, “weerlose God”. Skilderkuns as medium in prosesse van teologies-paradigmatiese transformasie – ver-beeld-ende stank (skúbalon) vir skandalige on-dank (skandalon)

$
0
0

Die estetika van ’n skreeu-lelike, “weerlose God”. Skilderkuns as medium in prosesse van teologies-paradigmatiese transformasie – ver-beeld-ende stank (skúbalon) vir skandalige on-dank (skandalon)

Daniel Louw, Universiteit Stellenbosch

LitNet Akademies Jaargang 17(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Die Christelike tradisie het dikwels in die Godsvraagstuk op die vraag gekonsentreer: Wie is God? Die Godskonsep, veral die al-mag van God, is in verskillende tradisies omskryf in statiese “omni”- of “almag”-kategorieë wat met ’n oorsaak-gevolg-denkskema werk. Die lydingsvraagstuk, asook huidige prosesse van sosiaal-politieke transformasie, het my genoop om na ’n ander invalshoek te soek. Daar word na die paradigma van estetika gekyk om weg te skuif van omni-kategorieë (God as pantokrator; Almagtige) na omgee-kategorieë (passio Dei). In dié verband word twee skilderye uit die Cross-Roads-reeks wat God se solidariteitsdeernis in ’n plakkerskamp uitbeeld, teologies aan die orde gestel. ’n Prakties-teologiese hermeneutiek van kyk (estetiese optiek) word voorgestel met behulp van begrippe vanuit ’n Pauliniese perspektief soos stank (skúbalon) en vloek – skandalige on-dank en verwerping (skandalon). ’n Dergelike hermeneutiek beweeg weg van die “wie” van God na die “hoe” van God. Die implikasie en argument is dat skilderkuns ’n medium is om God se wese nie te probeer definieer nie, maar slegs esteties te “infinieer” – die sosyn van God in terme van solidariteitsmedelye. Vandaar die teologiese perspektief van ’n skreeu-lelike God: “My God, my God, waarom het u my verlaat?”

Trefwoorde: estetika in skilderkuns; optiek van kyk; praktiese teologie van stank (skúbalon) en skandalige on-dank (skandalon); teopasgitiese teologie; weerloosheid van God

 

Abstract

The aesthetics of divine ugliness: The portrayal of a vulnerable God in the art of painting within processes of paradigmatic transformation in theological thinking – the disgust of filth (skúbalon) and the scandal of malediction (skandalon)

In the dogmatic tradition regarding the essence of God’s involvement with the human predicament of suffering, categories from the Roman and Greek culture are applied most of the time. An example is to be found in the Psalter Hymnal of the Reformed Christian Church: “And as God Himself is most wise, unchangeable, omniscient, and omnipotent, so the election made by Him can neither be interrupted nor changed, recalled, or annulled; neither can the elect be cast away, nor their number diminished.” In this regard, depictions of Christ in traditional iconography are used to bolster Christianity against paganism and heresy. In many doctrinal formulations Christ is portrayed with “omni-” categories like omnipotence and omniscience. God’s El Shaddai (the Hebrew wisdom tradition regarding the splendid majesty of Yahweh’s grace) had been translated into pantokrator categories that depicted Christ as a Roman Caesar. When Christianity was threatened, a kind of divine imperialism was introduced to justify a clerical ecclesiology and maintain dogmatic stances regarding social life problems.

When referring to, for example, the will of God, denominations in their official confessions tend to make use of the very positivistic principle of the uncompromising, rigid will of God (impassibilitas Dei). It happened in the way churches made use of a “natural theology”, specifically in the theological justification of the apartheid ideology. Cultural and racial separation was promoted by referring to diversity in creation. This “natural” kind of hermeneutic was used in order to maintain a discriminatory approach. The need for new paradigms in hermeneutic of human suffering, and the necessity of ideological changes, indicate that fixed formulae used to describe doctrinal stances failed to foster paradigmatic changes. This is why the article proposes the aesthetics of an optic gaze in visual arts as a possible medium for meaningful change. Two paintings from the series Cross-Roads (about the presence of a suffering God in a squatter camp on the Cape Flats) are used to foster a theology of compassionate being-with. To strengthen the applicability of a theopaschitic approach (the passio Dei), two obscure concepts from Pauline thinking (skandalon and skúbalon) are used to promote a paradigm shift, namely from a metaphysical model to a paschitic model of theologising in pastoral caregiving.

Keywords: a practical theology of filthy disgust; aesthetics in visual arts; the optic of a loving gaze; the vulnerability of a suffering God; theopaschitic theology

 

1. Inleiding: Voëlvlugskets van ’n verwarde outobiografie

My teologiese en akademiese loopbaan het in 1978 begin. Kanseltaal was vroom, mooi en verhewe bo enige vorm van platvloersheid. “Omni”-kategorieë is gebruik om God se onveranderlike wil met die verloop van pynlike lewensgebeure te handhaaf: die al-mag (omnipotence) van God; die al-wetendheid (omniscience) van God; die al-omteenwoordigheid (omnipresence) van God. “Al” dan letterlik en figuurlik in superlatiewe terminologie. Sy unieke majesteit van verbondsgenade (El shaddaj) is in Grieks vertaal met pantokrator met die gevolg dat die mag van God by voorkeur gesien is as buitengewone krag en gesag wat verhewe is bokant die vlak van menslike ervaring. Die indruk dat God alles kan doen, het in die Middeleeue selfs gelei tot die ironie van die volgende paradoks: Kan God ’n rots maak wat te swaar is vir God om op te tel? As almag “buitengewone krag” beteken, kan God dit beslis doen. Maar as God te swak is om die swaar rots op te tel, wat het dan van hierdie alles-kan-krag geword?

Die vertaling van El Shaddaj as pantokrator het onder andere ’n mitologies-Hellenistiese asook Romeins-kultiese agtergrond (Inbody 1997). “Ever since, it has been a real danger to fashion God in the image of the ‘cultural gods’ – the imperial rulers of the Egyptian, Persian and Roman empires – the church gave unto God the attributes which belonged to Caesar” (Louw 2000:7; sien ook Inbody 1997:139). Häring (1986:351–72) wys op die verband tussen pantokrator en Aristoteles se siening van potentia. Die dogmatikus Van de Beek beklemtoon verder die assosiasie tussen pantokrator en die Romeinse keiserkultus – God as ’n soort “super-koning” wat heers in terme van die absolute mandaat en dekrete van ’n imperialistiese despoot (Van de Beek 1984:91–2).

Die pantokrator-weergawe het my altyd gepla, omdat dit nie strook met die benadering in die Semitiese wysheidstradisie wat Jahwe verbind het met ’n werkwoord hjh (“om te wees”) en God in meer infinitiewe kategorieë verwoord het. Tot my teologiese ontsteltenis ontdek ek toe Paulus se argument vir ’n “weerlose God” (1 Kor. 1:25). Swakheid, weerloosheid (astheneia) dui op alle vorme van menslike weerloosheid, lyding en broosheid. Die woord astheneia is selfs in die Ou Testament gebruik om dodelike siektes en die swakheid van ouderdom te beskryf (Fretheim 1984:106).

Tydens my opleiding in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch gedurende 1966–9 is dit duidelik aan my gestel dat ek my beslis nie moet inlaat met wilde teoloë soos Jürgen Moltmann wat met geloofsharsings smokkel nie. Sy boek oor die hoop (Theologie der Hoffnung) het in 1966 verskyn. Skielik besef ek, maar daar is ’n ander invalshoek, naamlik die teopasgitiese teologie, wat worstel met die verband tussen God die Vader en God die Seun tydens die kruisroep: “My God, my God waarom het U my verlaat [derelictio]?”

My teologiese dilemma was die volgende: Moes ek swig voor die ewige, onveranderlike raad van God in die yspaleis van ’n ongenaakbare en dikwels noodlottige alles-wil-(oorsaak-gevolg-) skema, of die deernisvolle God met die broosheid van ingewande wat inmekaartrek oor die nood van ’n lydende mensdom (deernisvolle pathos-skema)?

Ek ontdek toe verder dat in die gelykenis van die verlore seun die vader se ingewande (buik en derms; ta splanchna) inmekaar getrek het toe hy op die stoep staan en wag en nie geweet het sy verlore seun is aan die terugstrompel nie. Die innig jammer voel van Luk. 15:20 vertolk ’n intense affek van medelye (esplanchnizomai) en dui op die saamtrekking van die ingewande weens intense bekommernis. “The verb splanchnizomai is used to make the unbounded mercy of God visible” (Esser 1976:598). Wanneer die gelykenis dan teologies geïnterpreteer word, dui die vader-simboliek nie op ’n alwetende godheid nie, maar veeleer op die intense deernis en passie van die vader (passio Dei) as aanduiding van dít wat Brümmer noem ’n konkrete praxis-hermeneutiek van die amicitia Dei (Brümmer 2006:299–302).

Nêrens in die gelykenis word die vaderfiguur voorgestel met ’n soort van alwetendheidspretensie nie. Die inmekaartrek van die ingewande dui op volledige angstigheid sonder ’n soort van positivistiese hermeneutiek wat presies weet dat die verlore seun op pad terug is na die vaderhuis. By wyse van metaforiese spreke: Die vader staan met die knoop van sametrekkende derms en nie met die tegniese kontrolemeganisme van ’n selfoon nie.

My dilemma: Moet ek krag-terme gebruik (met vrome kanseltaal) of barmhartigheidsterme (deernisvolle-sorg-taal) wat dikwels grens aan vloek-paradigmas wat die vasgespykerde kruiseling omhul het terwyl soldate uitdagend spot (kragdadige almag kon hom mos laat afklim het!) en dissipels met apatiese angsbevangenheid op die vlug slaan?

My dilemma was polities-ideologies en sosiaal-kultureel gesproke uiters delikaat. Teologies gesproke het ek geworstel met die vraag: Maar as God die Seun en God die Vader één is, waar was God die Vader met die verlatenheidsuitroep van die Seun? Is God ten diepste tog nie die lydende, swak God van wie Paulus praat nie?

 

2. Wat is teologiese legitimiteit in ’n versplinterde en verwarde wêreld?

Gedurende die tagtigerjare het ek baie gewonder hoe dit moontlik is om langer aan die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch, pastorale en praktiese teologie te doseer terwyl die heersende paradigma binne kultuurverband die ideologie van apartheid was. Drie gebeure het in my nadenke oor die morele implikasie van my teologiese legitimiteit en integriteit ’n rol gespeel.

Gedurende my kinderjare (ek dink dit was 1953–4) het my pa my na ’n politieke byeenkoms in die stadsaal op Ceres geneem. Die spreker was ’n predikant en teoloog van die NG Kerk. Hy was ook op ’n tyd moderator van die kerk. Hy het probeer om die gehoor van die noodsaaklikheid van apartheid en die teologiese regverdiging daarvoor te oortuig aan die hand van ’n voorbeeld vanuit Voëleiland by Lambertsbaai. In sy politieke retoriek het hy verwys na die feit dat die wit voëls en die swart voëls op die eiland apart sit en hoegenaamd nie meng nie. Dit is dus duidelik dat God se wil vanuit die natuur afgelei kan word. So ’n stelling is dan bevestig met die Skrifverwysing vanuit Genesis 11:4–9. Die feit dat God die volkere in ’n taalverwarring laat beland het en oor die hele aarde verstrooi het, het ’n teologiese bewys van apartheid geword. Skriftuur en natuur is versmelt tot die teologiese taal van politieke segregasie. As klein seuntjie van ongeveer nege jaar het ek verward tussen die metafoor van voëls en die menswaardige status van mense gedobber.

Die tweede gebeure was my aanstelling by die fakulteit aan die einde van 1977. Ek het nooit aan die Broederbond behoort nie en was sonder enige politieke affiliasie, behalwe dat ek in ’n Nasionale Party-huis grootgeword het. Op die ou end was daar ’n staking van stemme tussen my en die “regte” kandidaat. Die lot is gewerp en die “verkeerde” kandidaat is aangewys. Die voorsitter was hewig ontsteld en het per geleentheid gesê: “Nou kan jy nie eers meer God en die lot vertrou nie.” By ’n geleentheid in Pretoria het dieselfde persoon die opmerking gemaak dat Louw die laaste spyker in die doodskis van die kweekskool is.

Gedurende 1987 het ek dit oorweeg om te bedank en het ’n hewige gewetenswroeging ontwikkel. Vyf-en-dertig professore van die Universiteit Stellenbosch het op ’n Vrydag in Oktober ’n afspraak met P.W. Botha gehad. Hy was tóé kanselier van die universiteit. Ons wou hom en ander lede van die kabinet wat teenwoordig was, oortuig om Nelson Mandela vry te laat. Ek was een van die persone wat ons sentiment moes oordra. Met ’n ernstige vingervermaning het P.W. Botha na my gewys en as volg gereageer: “Mannetjie, nou sal ek vir jou vertel ...” In my Wynberg-bediening was hy lidmaat van die gemeente. Ek het ook sy kleinkind gedoop. Die aand na die mislukte ontmoeting het ons groep in die Mount Nelson Hotel vergader en vir mekaar gesê: Logika en gesprek (taal en argument) gaan nie die regering oortuig nie. Die enigste opsie wat op ons wag, blyk ’n bloedige revolusie te wees. In 1989 kry P.W. Botha ’n beroerte en die muur val in Berlyn, en Mandela word in 1990 vrygelaat. Dit gebeur twee jaar nadat ek in 1987 in Berlyn by die muur vir die president van Beiere gevra het: “Sal Duitsland ooit verenig?” Sy antwoord was: “Nooit, nooit!”

Waar pas God se ystere wil in by die prentjie van die radikale transformasie van die lewensbestel in Suid-Afrika?

Ek word dekaan met die oorkom van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) na die fakulteit in Stellenbosch aan die begin van 2001. Ek het nie geweet hoe om te reageer ten einde ’n groep mense wat vroeër weens apartheid uitgesluit was, welkom te laat voel nie. Ek was nooit deel van die “struggle” nie en het nie die vertroue van die VGK geniet nie. Die kuratorium van die NG Kerk was skepties oor my betrokkenheid, omdat ek nie genoeg “hul saak” gepromoveer het nie. Russel Botma, voormalige rektor van die Universiteit Stellenbosch, het my gereeld daaraan herinner dat baie lidmate in die VGK aan hom die pynlike vraag gevra het: “Wat gaan soek jy in ‘daai plek’?”

In elk geval was daar vir etlike jare geen formele akademiese kontak tussen die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van die Wes-Kaap en die Fakulteit Teologie op Stellenbosch nie. Ek het geworstel met die vraagstuk dat isolasie verstikkend is en tot verdere infeksie in die liggaam van Christus lei. Dit voed apatie en antipatie en dra by tot die slytasie van medelye; dit korrupteer die kuns van omgee en gasvrye samesyn. Watter sinvolle alternatief is daar wanneer gesprek en taal nie brûe kan bou nie?

Binne die maalkolk van verwarde belange, die gevoel van teologiese steriliteit en spirituele impotensie (feitlik niemand wou na my teologiese argumente luister en my boeke oor praktiese en pastorale teologie lees of ernstig opneem nie) het ek gewonder of estetika en die skilderkuns nie ’n opsie is om mense te oortuig van hoe belangrik dit is dat ’n radikale houdingsverandering gepaard moet gaan met paradigmatiese verandering op ideëvlak nie. Ideologiese verandering beteken dat van ou uitgediende paradigmas (“zombie categories, volgens Ulrich Beck in Reader 2008:1) ontslae geraak moes word. In sy boek Ideology and utopia wys Karl Mannheim (1966:49) daarop dat konsepte die draers is van idees wat op die ou end praxis bepaal en ’n motiveringsfaktor in praktiese aksies is. “Without evaluative conceptions, without the minimum of a meaningful goal, we can do nothing in either the sphere of the social or the sphere of the psychic” (Mannheim 1966:18).

Vandaar my grondhipotese: Wesenlike verandering begin nie by praktiese dade nie, maar by ’n nuwe en ander idee; ideë dryf en bepaal sinvolle praxis. Met praxis word dan bedoel nie bloot praktiese dade of aksies nie, maar handelinge soos bepaal deur paradigmatiese raamwerke wat ’n bepaalde idee konseptualiseer. Praxis is dan die beskrywing en artikulering van daardie ideë wat handeling motiveer en sinraamwerke verskaf vir transformasie en dinamiese verandering.

Hierdie voorveronderstelling word duidelik onderskryf deur ’n baie onlangse opmerking oor die Amerikaanse betrokkenheid by die politiek in Sirië en Irak. Vick en Hennigan maak in hul artikel in Time (2019:7) oor die dood van die ISIS-leier Abi Bakr Al-Baghdadi die volgende belangrike stelling: “It’s good to take out the leader, but it’s not just a terrorist group – it’s an ideology as well.” Die dood van Al-Baghdadi beteken nie dat die paradigmatiese raamwerk agter die politieke aksies van die Islamitiese staat uitgeroei is nie. Die stryd gaan voort.

Hoe pas God en sy wil in by die tragiek in Bagdad en die huidige rassepolarisasie in Suid-Afrika? Ek begin naarstig soek na ’n alternatiewe invalshoek.

 

3. Die soeke na ’n nuwe prakties-teologiese invalshoek: Die “hoe” van God of die “wese” van God

Ek het begin soek na ’n nuwe invalshoek vir die praktiese teologie; na ’n ander Godskonsep, Godsverstaan, idee oor God se heilsplan, vir sinvolle en menswaardige menswees. In elk geval, my woorde besit geen spirituele en teologiese legitimiteit nie. Daarom het ek intens begin worstel met die volgende praktiese-teologiese vraagstuk: Kan God anders ver-beeld word, want die tradisionele dogmatiese formules kan nie meer die eise van ’n nuwe tydsgewrig akkommodeer nie? Soos wat Taleb dit in sy boek The black swan stel: Die lewe kan nie met voorspelbaarheid en ’n Platoniese verklaringskema benader word nie. Taleb (2010:xxx) noem ’n positivistiese verklaringskema “Platonicity”. “Platonicity is what makes us think that we understand more than we actually do.”

’n Logiese en rasionele verklaringskema kan nie werklik “God” verwoord of voorstel nie. Nog minder pas die Moses-formule oor God, naamlik “Ek is wat Ek is” binne die Aristoteliaanse oorsaak-gevolg-formules. Taleb (2010:120) noem dit die Aristoteliaanse “omdat” – God as ’n verklarende deus ex machina. Die kernprobleem is dat ons steeds deterministies dink: “We are dogma-prone from our mother’s womb” (Taleb 2010:129). Ons wil ons pynlike ervaring van weerloosheid verskans met rasioneel-opgesmukte verklaringsteorieë. “Whenever our survival is in play, the very notion of because is severely weakened. The condition of survival drowns all possible explanations” (Taleb 2010:120).

Logiese formules werk nie. Die etiese benadering strand op die werklikheid van wat Bauman (1995) noem “Moral blindness”. Moet ’n etiese benadering nie aangevul word met ’n ander benadering eerder as om bloot staat te maak op die opsie van ’n nuwe moraliteit nie? Hierdie kernvraag het my na estetika laat kyk as ’n moontlike alternatiewe benadering om op ’n sinvolle wyse kreatief met weerloosheid en onvoorspelbaarheid om te gaan.

Matzker (2008:10) verbind estetika met die teorie oor perspektivisme. Hy beskryf estetika as die optiek van ’n kreatiewe en verbeeldingryke manier van kyk na die werklikheid. Estetika “bemiddel” en wil nie bloot faktisiteit kopieer en direk weergee nie. In dié sin is estetika ’n hermeneutiese bedryf. Dit beskryf ’n daad van betekenis-toekenning (sinduiding) aan objekte binne die wisselende interaksie tussen subjek en objek, indrukke en interpretasies. Estetika werk dan binne verbeeldingryke skakels tussen vorm (eidos, wese, betekenis) en substansie (hýle, ontiese dimensie). “Aesthetics implies acts of symbolisation (to symbolise, from the Greek symbálein = to link to halves) and processes of meaning-making” (Matzker 2008:10).

Die punt is: Estetika werk binne die fragmente van skerwe as bemiddelaar en soort van osmotiese uitruiling tussen die kyker se ervaring en die sien van die objek. Estetika bevorder ’n proses van sinvolle netwerking en verbeeldingryke her-innering. “Aesthetics then expands the horizon of interpretation of human beings; it creates a grammar of mediation. For Plato the mediation points in the direction of a copy of a kind of original image or existing idea. For Aristotle the mediation is in itself a process of signifying in the sense that it functions as a memory (anamnese) of reality” (Matzker 2008:11–2).

Die opsie van estetika laat mens toe om anders met die Godsvraag in teologie om te gaan. Dit soek nie meer God as ’n oer-verklaringsbeginsel en statiese prinsipe agter die empiriese werklikheid ten einde die vraag na die oorsprong van die kwaad teologies te probeer ophelder nie. Gewoonlik word die Godsvraag so oorheers deur die vraagstuk van goed en kwaad, sonde en verlossing dat daar min plek is vir ’n teologie van medelye. Selfs die teologiese bespreking oor Moltmann se formidabele werk oor ’n kruisteologie is gedomineer deur vrae rondom die versoeningsleer (Welker 1979). Rutledge (2015) skryf ’n werk van 669 bladsye oor die kruis. Hy sluit af met temas oor plaasvervanging, oordeel en verlossing sonder om die tema van ontferming (barmhartigheid, medelye, omgee) te gebruik as fokuspunt vir sy dogmatiese invalshoek.

Naas die versoeningsperspektief oorheers etiese vraagstukke soos die verband tussen homofobie en seksuele oriëntasie die teologiese debatte in sinodale sittings. Ek kom vanuit ’n CSV-tradisie met die idee dat dans, swem op Sondag, kaartspel en wyn almal bose gestaltes van die sonde is. Teologiestudente moes in die tagtigerjare teken dat hulle nie sal dans nie ten einde gelegitimeer te kon word.

Maar wat van ’n estetiese aanpak met die fokus op sin, betekenisgewing en lewensvreugde? Iets soos die Augustiniaanse benadering dat mens God moet geniet? “The challenge is for the apostolic faith to capacitate believers to desire and delight in God so that their dignity, relationships to persons and things, and visions of human excellence and a just social order stem from delight” (Charry 1993:102).

Met hierdie vrae in my gemoed het ek my toe tot die optiek van kyk in skilderkuns gewend ten einde teologiese paradigmaskuiwe te kan vertolk en ook aan te wakker. Ek het ook ’n boek oor die ikoniese dimensie in kuns geskryf met die hoop dat die estetiese kyk in skilderkuns, spesifiek oor hoe God en Christus in die skilderkuns voorgestel is, my tot ’n ander Godsverstaan kan lei (Louw 2014). Die teologiese vraag is dan of ’n nuwe manier van ’n estetiese kyk op lewensvraagstukke mense se verbeelding só kan aangryp dat hul Godsvoorstelling kan skuif vanaf statiese definisies oor God na meer dinamiese “infinisies” oor God: God se so-syn met menslike lyding. Die teologiese vraag skuif weg van wie God wesenlik is (dogmatiese definisies oor die eienskappe van God; die vraagstuk van die hoedanigheid van God; Berkhof 1973:117–8), na die praxis van God se hoe-doenigheid – die karakter van God se “hoe”, naamlik, God se omgee, ontferming, deernis en barmhartigheid. Om God te ken, is om sy gesindheid jeens ons te ken (Berkhof 1973:117).

In terme van my vorige teologiese raamwerk het ek besef ’n paradigmaskuif behels ’n konseptuele skuif weg van die pantokrator-God van imperialistiese mag (die Romeinse omnipotentaat van Julius Caesar) na ’n teopasgitiese paradigma van interpretasie. Dit is in dié verband dat Matthews (1993:12) verwys na die “Emperor Mystique” in teologisering. “Both the shape and the power of the images, according to this theory, come from reliance on imagery formerly used to present the emperor.” In plaas van ’n imperialistiese interpretasie van die mag van God, gaan die teopasgitiese interpretasie van die kruis uit van die konsep van ’n meelydende, “swak God”. Die pathos van ’n Pauliniese kruisteologie word dan die invalshoek (1 Kor. 1:25 – die swakheid, astheneia, van God). Ek het selfs gewaag om die tradisionele formule oor teologie, fides quaerens intellectum (faith seeking understanding, geloof wat soek om te verstaan), aan te vul met ’n prakties-teologiese benadering: fides quaerens imaginem (faith seeking imagination, geloof wat soek om verbeeldend te dink; Louw 2016: 109; Cilliers 2012).

Onder die invloed van Thomas van Aquinas is teologisering as ’n hoofsaaklik kognitiewe aangeleentheid beskou. Geloof moet ’n rasionele basis toon: 

Thomas is not willing to say that holy teaching is simply a matter of believing a collection of bits of information that God has revealed. If it is true Scientia, then reason must have some role to play in this activity. It must be a process of, to use St Anselm’s phrase, “faith seeking understanding” (fides quaerens intellectum), in which understanding involves some sort of seeing-the-whole by the interrelatedness of the parts. (Bauerschmidt 2013:143)

Binne die raamwerk van die ortodoksie moes die belydenisse van die kerk daarna streef om die “regte geloof” te formuleer. Die regte geloof moes dan ook die dogma van die kerk binne die raamwerk van ’n uiters klerikale siening van ekklesiologie (die dogma ondersteun die besondere ampte in die kerk) help bevorder. Vandaar die klem op die rol van die intellek in die formulering van die heilswaarheid (Migliore 2004:2). Die leer van die kerk moet teen dwaling beskerm word. Daarom moet die waarheid in duidelike, kognitiewe en rasionele terme gedefinieer word. Positivistiese definisies bepaal klerikale denke, beslis nie die “infinisie” van menswees nie. Teologie is daar om God aan die gang te hou en nie om mense menswaardig te laat lewe nie. Dit wat die Afrika-filosoof en teoloog Kenneth Kaunda in sy boek A humanist in Africa (1967) genoem het Christelike humanisme. “Let the West have its Technology and Asia its Mysticism! Africa’s gift to world culture must be in the realm of Human Relationships” (Kaunda 1967:22). “A person is a person through other people” (Mtetwa 1996:24). In plaas van piramide-denke, dink ’n Afrika-spiritualiteit binne die sirkel van kommunaliteit (Bosch 1974:40).

In die publikasie oor die rol van estetika in die transformering van teologiese denke (Louw 2014, het ek probeer om ’n ander weg te volg as die tradisionele pad van dogmatiese rasionaliteit, naamlik om te kyk na die rol van verbeelding, visie en hoop in geloofsvorming en geloofsvolwassenheid. In plaas van die weg van scientia (logiese en korrek geformuleerde belydenisse van die kerk; Louw 2016:100–3), wou ek delf in die dikwels paradoksale uitsprake van sapientia – die wysheid van die hart wat weet God-is-dáár ten spyte van die empiriese ervaringsbewyse dat hy skynbaar vir sensoriese en affektiewe ervaringe totaal afwesig is. Sapientia, daarenteen, dink nie noodwendig “oordentlik” en kousaal-oorsaaklik oor God nie. Die wysheid kan soms arrogant, byna lasterlik, oor God praat. Dit is dan ook as gevolg van wysheid dat eienaardige gebede van angs, weerstand en woede teenoor God, ’n vroomheid (eusebeia) van hoopvolle verwagting vertolk met behulp van radikale, provokatiewe taal: “Waarom slaap U, Here? Word tog wakker” (Ps. 44:24); God, roer tog ’n slag jou litte!

Ek worstel voorts met die volgende vraag: Is geloof nie per slot van rekening ’n ander manier van kyk, van kreatiewe verbeelding deur middel van ’n hermeneuties-narratiewe interpretasie van die Bybelse verhale ten einde die eskatologiese gebeure van God se bemoeienis met die mens te vergestalt in ikoniese beelde nie? Beelde wat in hul metaforiese en simboliese betekenisraamwerke verwys na die kreatiwiteit van transendentale nadenke. Die gedagte is dan om na beelde en voorstellinge van God te soek wat meer verwys na ’n spirituele benadering waarin teologiese konseptualisering help om gestaltes van die hoop te ontsluit binne die eksistensiële werklikheid van die menslike soeke na sin, geregtigheid, verlossing, bevryding en menswaardigheid.

Daarom die aksent op veral drie moontlike formuleringe oor wat teologie is (Louw 2016: 108–10; Louw 2014:100–2):

  • Teologie is die soeke van geloof om gestalte te gee aan daardie hoop wat sinraamwerke kan verskaf vir ons menslike oriëntering binne die daaglikse werklikheid van lyding, swakheid, weerloosheid, angs en die vrees vir die dood: fides quaerens spem (geloof wat soek na sinvolle gestaltes van die hoop).
  • Teologie is die soeke van die geloof na konsepte, simbole en metafore wat iets kreatief (ver-beeld-ingryk) ver-beeld van die werklikheid van die heil en die genade, medelye, sorg en omgee van God: fides querens imaginem.
  • Teologie is die soeke van geloof om anders na die werklikheid van verganklikheid te kyk, naamlik om die “onsienlike” (Heb. 11:1 en 7:27) te sien; om deur middel van die optiek van ’n estetiese kyk iets te ontdek van die Seun wat volgens Kol. 1:15 die grondtese van die Christelike geloof gelê het, naamlik Christus as beeld van die onsienlike God. Vandaar die formulering: fides quaerens visem – geloof wat soek na ver-beeld-ingryke nuwe visies vir geloofsverstaan. God word in liefde ver-beeld (uitgebeeld) in die lyding van die Seun (Moltmann 1972). Dit is dan ook waarom ek met die volgende teologiese tese begin werk het: God se onsienlikheid, heerlikheid (doksa) en mag (al-mag) kan nie in pantokrator-beelde vanuit die Romeinse keiserryk en keiserkultus voorgestel word nie. Imperialistiese voorstellinge moet vervang word met beelde wat die medelye en omgee van God vergestalt – dit wat Berkhof (1973) noem God se weerlose oormag – die oorrompeling van barmhartigheid. Daarom my voorkeur vir ’n teopasgitiese verstaan van ’n kruisteologie (ta splanchna; Louw 2016:313–7).

In hierdie voorkeur het ek op ’n heel uitsonderlike wyse afgekom op dít wat as die wese van die Christelike geloof geïdentifiseer kan word. Ludwig Feuerbach (’n sogenaamde ateïs) maak in sy boek Das Wesen des Christentums (1904:127) beswaar teen ’n teologiese model ontdaan van pathos. Sy pleidooi is om van ’n strak en abstrakte God-ideologie ontslae te raak. Die fokuspunt van geloof moet die praxis van medelye en omgee wees waarin dit in wese gaan om die heil en welsyn van die lydende mensdom (Feuerbach 1904:283). Sy kredo is dat hy vriende van God in vriende van die mens wil verander.

Vir Feuerbach is die God van die Christelike geloof ’n God met ’n hart vol passie. God is vir hom pure pathos en aldus geprofileer deur lyding, medelye en omgee (die Passion pura, das reine Leiden). Vandaar sy stelling dat ’n God sonder pathos en ’n hart in wese ’n statiese “afgod” is (Feuerbach 1904:127). Feuerbach het my gehelp om te besef dat eintlike, outentieke teologisering begin by die passio Dei. Om hierdie passievolle God voor te stel en gelowiges te help om ’n paradigmaskuif vanaf ’n statiese denke oor God (impassibilitas) na ’n dinamiese, passievolle denke oor God (passio Dei) te bewerkstellig, het ek my tot die estetika van die skilderkuns gewend.

In sy boek Christianity, art and transformation lewer De Gruchy (2001:138) ’n pleidooi dat teologisering opnuut die skakel tussen estetiese oordele en die aard van teologisering sal ontdek: “For some reason the connection between aesthetics and social ethics, between beauty and social transformation, was not apparent to those of us who were engaged as theologians in the struggle against apartheid” (2001:2).

 

4. Die optiek van estetika in skilderkuns: Die spiritualiteit van ikoniese opkerf in stukkende skerwe

In sy soeke na ’n nuwe benadering in praktiese teologie merk Pattison (2013:149–50) op dat ’n prakties-teologiese vernuwing ’n ander “gesig van God” benodig. Hoofstuk 8 van sy boek het die volgende insiggewende opskrif: “Shining up the face of God. Practical theological horizons for enfacement” (Pattison 2013:149). Ten einde vernuwend te dink, stel hy ’n metodologie van kritiese “theological imaginary” (2013:149) voor. Die skopus van optiek in ons Westerse denke is volgens Pattison uiters beperk. Die rede: “The scopic regime of the arrogant eye” (2007:19). Vandaar sy invalshoek: ’n optiek van kyk binne die dimensie van verbeeldingryke estetika. “However, the tradition of a thicker, more sensual kind of theological seeing, not solely based on inward or mystical ideas of vision, might usefully question assumptions about seeing God’s face in the human world” (Pattison 2013:150–1). As gevolg van visuele oorlading en hipervisualiteit maak hy die volgende stelling: “We have so much but see so little” (Pattison 2007:1).

Dit is uiters moeilik om die optiek van estetika te omskryf. Dit is só moeilik dat Picasso as volg gereageer het: Kuns is ’n vorm van lieg ten einde die waarheid beter te verstaan. Daarom is die estetika van ’n optiese loer na die werklikheid in wese ’n radikale ingrepe in die werklikheid (Picasso aangehaal in Huffington 1988:118). Die kunstenaar sny die ervaring van sien op in skerwe. So “vernietig” kuns die ervaringswerklikheid ten einde op ’n verbeeldingryke wyse ’n nuwe gestalte en ander vorm van lewe daaraan te gee. Estetika in byvoorbeeld die visuele kunste laat herleef die werklikheid. Maar hierdie estetiese ingrepe bring stryd en worsteling mee. Op die ou end word kuns dan bepaal deur wie die kunstenaar is, wat sy/haar gesindheid en lewenshouding is (Picasso, aangehaal in Barr 1975:274).

Ek vind die volgende opmerking oor kuns en estetika verhelderend: Kuns is nie die vermoë om bloot iets te maak as gevolg van handvaardigheid nie (kunsvlyt en vakmanskap – craft); dit is ook nie bloot om die werklikheid “mooi” te maak nie. Die estetiese ekstase van verbeeldingryke ontploffing in kuns is ’n manier om sin aan lewe te gee (Spivey 2006:24). Poëtika in kuns en estetika is ’n besef van verwondering: daar is naamlik méér in kyk as dit wat ons empiries en voorhande kan sien. Kuns is ikonies, want dit wil nie bloot ontleed of dissekteer nie; “Not to reflect the visible but to make visible” (Paul Klee in Stone 2003:31). Kuns kerf “mooi” op in stukke ten einde skoonheid beter te ver-beeld.

In Image and spirit beskryf Stone (2003:9–11) kuns as ’n vorm van spirituele asemhaling. Die gevolg is dat dit in kuns nie gaan om bloot sintuiglik-empiriese ervaringe nie, maar om ’n vorm van sin-duiding. Hierdie spirituele dimensie lei daartoe dat kuns (veral skilderkuns) beskryf kan word as ’n estetiese stem wat die onsigbare werklikheid letterlik en figuurlik be-sin. “Art at its best makes concrete what language and especially religious language cannot: that intangible, private or communal moment when we encounter being.” Kuns vroetel daarom tot in die vesels van die menslike siel en is daarom meer onties-belewend as bloot empiries-kykend; “… that is, the ontological, the essence of experience beneath and beyond the surface appearance of things” (Stone 2003:11). Dit is só onties en eksistensieel dat Dissanyake (1992) ’n hele boek wy aan die estetiese tema van die mens as wesenlik homo aestheticus. Die estetiese mens neem vanuit die alledaagse ervaring dinge wat normaal skyn te wees en sien dit dan as abnormaal in dié sin dat dit die alledaagse buitengewoon maak.

Kuns is wesenlik verbind met opwinding en ekstase. Nietzsche beskryf dit as volg: “One is seized by an ecstasy” (Nietzsche 1966:20). Ekstasis in Grieks beteken dan ook om uit die staat van doodgewone normale sloer te tree en met verbeelding ervaring te transendeer. Dit is ’n soort van spirituele “out-of-body experience” (Pentcheva 2010:37).

Dit is duidelik dat skoonheid in kuns oor meer gaan as bloot wat “mooi” (pretty) is. Skoonheid is ’n worstelende wroeging ten einde betekenis/lewensin uit te wring vanuit die spannende paradoks van vormgewing as verwringing, en ver-beeld-ing as vervorming. Die “mooi” in kuns is dan ’n gestalte van die ikoniese, simboliese en metaforiese andersheid wat in die brute massa van ongekarteerde feitelikheid en empiriese voorhandenheid skuil. Só kap Michelangelo die “vormlose” graniet weg om vorm te gee aan die vryheid van die stadstaat Florence. En “sie-daar” (’n optiese kyk), daar staan Dawid! Vir die kyker nakend; vir sommige kykers, soos die Pous, pornografie; maar vir Michelangelo spirituele skoonheid. Hy het dit dan ook duidelik gestel dat hy nooit ooit ’n naakte figuur geskilder of gebeeldhou het nie. Hy het eintlik net siele geskilder. Volmaakte vorm vergestalt die wese en adel (vryheid, ongebondenheid, moed) van die menslike siel (Clark 1974:129). Die skoonheid van die menslike liggaam vergestalt daarom die mooi van die menslike siel. Daarom is naaktheid die anatomie van “mooi siele”.

In beeldhouwerk word die wegkap van marmer die estetika van worstelende skoonheid as ’n manier van singewing binne ’n smeltoond-ervaring van kreatiewe ekstase. As gevolg van kreatiwiteit en ekstase begin in die objek ’n nuwe en ander “idee” gloei as wat die voorhande kyk van die kunstenaar gesien het. By wyse van metaforiese en simboliese spreke kan gesê word dat die idee van die kunswerk begin om in die binneste van die kunstenaar te brand. Daarom stel Picasso dit duidelik: “There is no abstract art. You must always start with something. Afterward you can remove all traces of reality. There’s no danger then, anyway, because the idea of the object will have left an indelible mark” (aangehaal deur Barr 1975:273). Konstruksie begin by dekonstruksie, die aangenaamheid van “sien” (mooi), (die tevredenheid van dit wat ek sien en ervaar is “goed”) by die vloek van stukkend maak (“sondig”). In Picasso se Guernica word die stukkende skerwe van verminkte menslike ledemate ’n teken van die wreedheid van geweld met ’n suggestie van heelmaking as rekonstruksie van bomskerwe.

Artistieke skepping is voorts vernietiging van wat “niks” is, om iets gebore te laat word: creatio ex nihilo. Niks is dan die “iets” van ongevormde massas wat gestalte moet kry sodat daar lig kan skyn deur die “duisternis” van brute massa. Kuns laat die massa van swart lawa gloei met vorm en kleur binne die gepolariseerde paradokse van verheffende verwondering en ontstellende onthutsing. Want estetika onthul, ontmasker ook die lelike en aakligheid van lewe. Mens kan dit skerper formuleer, naamlik dat ’n egte en radikale estetiese blik selfs die diaboliese en kwaad in die optiek van kyk oopvlek. In sy Les Demoiselles d’Avignon ontbloot Picasso ’n soort van barbaarse dekonstruksie wat die kyker hewig kan ontstel: “Five horrifying women, prostitutes who repel rather than attract and whose faces are primitive masks that challenge not only society but humanity” (Huffington 1988:93).

 

5. Die estetika van lelik: Teologiese aakligheid

But we see now through a glass darkly, and the truth, before it is revealed to all, face to face, we see in fragments (alas, how illegible) in the error of the world, so we spell out its faithful signals even when they seem obscure to us and as if amalgamated with a will wholly bent on evil. (Eco 1980:11)

Met hierdie opmerking maak Eco die leser daarvan bewus dat estetika ook met lelikheid, aakligheid en walging te doen het. Dit wat Jean-Paul Sartre (1943) nausea noem.

Lelik bevat elemente van weersin, gewelddadige, weersinwekkende, afskuwelike afstootlikheid (Eco 2007:16): 

In truth, in the course of our history, we ought to distinguish between manifestations of ugliness in itself (excrement, decomposing carrion, or someone covered with the sores who gives off a nauseating stench) from those of formal ugliness, understood as lack of equilibrium in the organic relationship between the parts of a whole. (Eco 2007:19)

Ek moet erken dat ek taamlik geskok was toe ek die volgende titel op een van die sogenaamde nuwe boeke in ’n boekwinkel op ’n lughawe raakloop: The subtle art of not giving a f*ck (Manson 2016). F*ck is dan nie bloot ’n vulgêre vloekwoord nie. Dit beskryf die paradoks van apaties-patosvolle woede en walging oor die onmoontlike eise wat ’n kultuur van kompetisie aan singewing en menswees stel. Dit word ’n estetiese vloekwoord wat antipatiese woede uitspreek oor wat die kwaad van obsessiewe prestasie aan menswaardigheid doen. Die woord f*ck werk soos ’n spirituele elektriese skok en beskryf dan die lelikheid van onmenslike verwringing binne die magteloosheid van zero-ervarings. “The Feedback Loop from Hell has become a borderline epidemic, making many of us overly stressed, overly neurotic, and overly self-loathing” (Manson 2016:7).

Die punt is dat lelik as estetiese kategorie beskryf hoe kwaad en gewelddadige destruksie menswees verwring tot op die punt van angstige woede en mislukkende hulpeloosheid. Toegepas op die vraagstuk van die “hoe” en modus van God se betrokkenheid by die uitsigloosheid van menslike lyding en woedende f*ck-ervaringe, impliseer hierdie insig dat God nie meer bloot beskryf kan word in die kragtige en dikwels despotiese taal en beelde van die Romeinse keiserkultus nie. Waarskynlik is ’n beter alternatief die estetika van lelik waarin die teologiese taal van “vloek” (“vervloek is elkeen wat aan ’n kruishout hang”) op ’n paradoksale wyse iets verwoord van die teologiese “mooi” van wat Paulus noem “die swakheid van God”. Lyding kerf God se aangesig op in aakligheid. Die “weerlose God” is nie “mooi” nie, maar geskend (the beauty in the beast). Dit is waarom die ontmoeting tussen God en mens dan ook beskryf word in die metafoor van die lelike, aaklige, walglike en lydende “kneg van die Here”. Jes. 53:2–5 beskryf dan ook hierdie kneg as ’n dienaar wat nie skoonheid of prag gehad het dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie. Hy was verag en deur die mense verstoot, ’n man van pyn en lyding vir wie mense die gesig weggedraai het. 

In my navorsing oor die verskillende uitbeeldinge van Christus as die gekruisigde, het ek op die volgende uitbeelding van die lelike, aaklige, afskuwelik en verwonde Christus afgekom (foto regs – die naakte skreeu-lelike Christus). Ek het net besef dat hierdie uitbeelding waarskynlik beter klop met die beskrywing van God se lydende kneg en Paulus se weergawe van swakheid (atheneia) van die gekruisigde Seun van God as die romantiek van ’n “mooi”, aanvallige Christus (links).

Figure 1 en 2. Vergelyk die “mooi” afbeelding van ’n Europese Christus (links) (https://www.jesusdaily.com/8-depictions-of-christ-from-around-the-world-jzb/; 4 November 2019 geraadpleeg). (Publieke domein vir navorsing alleen.) Regs is ’n afbeelding van ’n naakte, verwonde, eintlik lelike en afskuwelike Christus, circa 1500–1530. Toestemming: National Museum, Copenhagen. Foto: D.J. Louw (Sien ook Louw 2014:246.) 

Met die estetika van lelik in gedagte het ek besef dat die mooi en romantiese beeld wat dikwels in die Christelike tradisie opgetower is, nie met die lydende kneg van God klop nie. Dit is dan ook die geval dat die Christelike kerk altyd hierdie beskrywing van die kneg van die Here messiaans geïnterpreteer het. Ek het ook besef dat die sagte, rustige uitbeelding van Christus aan die kruis nie werklik met die realiteit van weerloosheid (atheneia) van God en wrede vloek geklop het nie.

Ek het ook reeds voorheen verwys na my worsteling of ek by die Fakulteit Teologie moet aanbly al dan nie. Die isolasie van die fakulteit van Universiteit van die Wes-Kaap gedurende die tagtigerjare het my toe laat besluit om ’n kruisvoorstelling te maak binne die konteks van die plakkerskamp op die Kaapse Vlakte met die baie simboliese naam van Cross-Roads. Die skildery regs beeld dan ook die uitroep van die hoofman oor honderd uit: “Waarlik hy is die Seun van God.” Die skildery links beeld die aaklige roggelkreet van die sterwende, skreeu-lelike Christus uit: “My God, my God, waarom het u my verlaat [derelictio]?” as die skreeu-kreet van verlatenheid.

Figuur 3. Die voorstelling van Christus se kreet van verlatenheid (derelictio) binne die konteks van die plakkerskamp Crossroads, Kaapse Vlakte. Kunstenaar: D.J. Louw.

Figuur 4. Die gekruisigde Christus word uitgebeeld binne die tydperk van die “struggle” en voorvalle van “necklacing” op die Kaapse Vlakte. Hy hang tussen die doringdrade wat radikale apartheid meegebring het; radikale skeiding tussen wit en swart. Heel regs staan die hoofman oor honderd met die uitroep: “Waarlik, Hy is die Seun van God.” Kunstenaar: D.J. Louw.

Ek wou met hierdie Cross Roads-ikone ’n paradigmatiese verskuiwing aanbring oor ons dogmatiese idee aangaande wie en hoe God is: God dan nie voorgestel as die selfgenoegsame, almagsfiguur van ’n Romeinse keiser nie, maar in die paradigma van ’n “lydende kneg” wat radikaal vereenselwig is met die sosiale nood en die lyding van mense as gevolg van die ideologie van apartheid. Daarom is die plakkershuisies in beide skilderye agter doringdraad, want dit is hoe wit en swart in die apartheidsideologie fisiek, sosiaal, polities en ook religieus van mekaar geskei is. Die huisies lyk egter soos gesigte, want agter die masker van sinkplaat skuil egte mense op soek na geregtigheid. Ek wou die astheneia van Paulus se uitbeelding van Jesus as Gekruisigde (1 Kor. 1:25) vertolk en in beeld-taal wys hoe die passio Dei ’n helende dimensie besit: God se barmhartigheid as deelnemende, mede-lydende solidariteit. In die skildery is die ribbebene dan ook só geskilder om die identifikasie met die ellende van die sinkplaatstrukture uit te beeld.

God se almag is in wese ’n solidariteitsmedelye. In plaas van die vertaling van El Shaddaj as pantokrator, wou ek met die skilderye uitbeeld dat El shaddaj nie “al-mag” beteken soos uitgebeeld in militante of apatiese almagsterminologie (“omni”-kategorieë) nie, maar eerder in solidariteits- en barmhartigheidsterminologie. In die ontfermende-Here-terminologie (God is die Here) van Deut. 10:16–18 wou ek met die skildery sê: “Die Here is jou God … die groot God, die magtige wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie … God laat reg geskied aan die weeskind en die weduwee. God het die vreemdeling lief en gee vir hom kos en klere” (sien Nuwe Afrikaanse Vertaling 1983). God se almag verbeeld konkreet xenophilia (vriendskap ongeag kultuur, afkoms, ras, klas of gender). Almag rym hier met deernis en ontferming. Barmhartigheid oorbrug xenofobie en bou brûe tussen alle mense binne verskillende kultuurgroepe en multipluralisme.

Dit is te verstane dat in die geskiedenis van die Christelike kerk dit moeilik was om afbeeldinge van God te maak. Die feit dat Eks. 20:4 gelees is as ’n algehele verbod op enige vorm van afbeelding van God, het gelei tot heelwat konflik in veral 700–800 n.C. Van die vroegste afbeeldinge het Christus as herder voorgestel. Latere afbeeldinge het al meer gebruik gemaak van voorstellinge wat in die imperialistiese keiserkultus gebruik is.

Dit is ook duidelik dat in die vroegste ikonografie, soos die bekende voorstelling van Christus Pantokrator in die Hagia Sophia in Istanbul (sien foto onder in die middel), die kleed gedrapeer word soos dié van ’n Romeinse imperialis/keiser. Dieselfde voorstelling kom voor in die St. Katarina-klooster in die Sinaiwoestyn. Die bekende voorstelling van Christus met ’n stralekrans, baard en oë soos in die vroeë kerk se voorstellinge van hom en Ethiopiese ikonografie toon weer ooreenkomste met voorstellinge van Serapis wat in Alexandrië, Egipte gevind is (sien onder links).

Serapis was ’n Grieks-Egiptiese god wat onder Ptolemaios I in die 3de eeu v.C. geskep is om die Grieke en die Egiptenare te verenig. Die kop met wenkbroue en hare is dié van Jupiter met olyftakke om sy hoof soos ’n stralekrans. In 400 v.C. het ’n verdere verband tussen Serapis en die kragtige (al-magtige) Zeus ontwikkel (Mathews 1993:184–5). Die ooreenkoms tussen die latere ikonografie in die Christelike kerk en die Egipties-Griekse ikonografie blyk duidelik in die afbeeldinge hier onder.

Die uitbeelding van die lydende Christus (onder regs) het ek in Cusco, Peru, by ’n kunshandelaar gekoop. Die Inkastamme het baie onder die Spaanse imperialisme gely. Hierdie kruisvoorstelling (Louw 2014:186) verbeeld en vertolk die identifikasie van die weerlose, maar omarmende, God met die uitbuiting en veragting wat die Inkas moes ly. Die Cusco-kruisbeeld vertolk presies wat Paulus met die weerloosheid en swakheid van God in 1 Kor. 1:25 bedoel het. Dit is veel meer vertroostend en ook esteties “mooi” as die kragtigheid en omni-mag van die Hagia Sophia-afbeelding.

Dit is tog merkwaardig hoe pantokrator-afbeeldinge selfs in die belydenisse van die Christelike kerke weerspieël is. In die Psalter Hymnal van die Christian Reformed Church (1959:46) is byvoorbeeld die Kanon van Dordt (artikel 11) opgeneem. “And as God Himself is most wise, unchangeable, omniscient, and omnipotent, so the election made by Him can neither be interrupted nor changed, recalled, or annulled; neither can the elect be cast away, nor their number diminished.” Die kursivering is deur my om aan te dui hoe statiese en gefikseerde kategorieë steeds gebruik word en ’n impak op mense se konseptualisering van God het.

Figure 3, 4 en 5. Die afbeelding van Serapis, links, en Christus-Pantokrator, middel. Die ooreenkoms tussen die twee afbeeldinge toon hoe kultuur-religieuse faktore ’n rol in die vroeg-Christelike ikonografie gespeel het. (Gratis beeld, 5 en 6 vir uitsluitlik akademiese doeleindes. http://en.wikipedia.org/wiki/Christ_Pantocrator; 8 Januarie 2013 geraadpleeg.) Die afbeelding regs (figuur 7), die Cusco-kruisbeeld, verskil geheel en al van die ander twee en beeld die identifikasie van Christus, die Seun van God, met die lyding van die Inkas onder Spaanse imperialisme. Foto: D.J. Louw.

Op ’n eienaardige wyse is dit egter juis God se lelik wat ’n teologiese estetika van “mooi” vergestalt; die mooi van barmhartigheid en die troos van die passio Dei. Skandalon oorbrug menslike verskille en skep ’n nuwe gemeenskap (koinonia). Die Goddelike drama en skandaal van ’n vervloekte bemiddelaar skep ’n ekklesiologie waarin vervloektes en verworpelinge ’n tuiste vind; die kerk vergestalt sodoende ’n xenodochia – ’n veilige hawe vir almal wat verwerp, gekneus, uitgestoot en teen gediskrimineer is.

 

6. Die helende en transformerende estetika van vuiltaal: vloek (skandalon) en drek (σκúβαλon) – die rommelstatus van “stank” onder die kruis

Die kruis beteken eintlik skande, dwaasheid, sinloosheid, non-sense en vloek. Daarom dat Paulus in 1 Kor. 1:23 argumenteer dat vir die Jode ’n gekruisigde Christus ’n aanstoot (skandalon) is en vir die ander kulture totale dwaasheid (mōrian). Die aanstoot van die kruis setel in die feit dat dit alle vorme van menslike prestasie tot selfverbetering, alle vorme van legalistiese wysheid en ’n ekstra van menslike prestasie (’n soort van kompetisie-ekstra wat dien as voorvereiste vir die gawe van genade) nivelleer tot algehele niksheid – drek (skúbalos). Die kruis beteken vloek omdat dit die ergste vorm van veroordeling en verwerping aandui. As mens regtig “mooi” kyk na die kruisgebeure en die onreg wat Pontius Pilatus juridies gesproke pleeg, moet jy eintlik met heilige eerbied sê “f*ck”, want so ’n vulgêre term druk eintlik teologiese walging en weerstand uit – “Damnation, damn you!”

In baie afkeurende taal stel Gal. 3:13 dit dat die kruis ’n vloekhout is. “Vervloek is elkeen wat aan ’n hout opgehang word.” Volgens Deut. 21:22 is enige persoon wat opgehang word deur God vervloek. Volgens Deut. 27:26 hang vloek en skuld met mekaar saam. Wanneer ’n onskuldige onregmatig beskuldig en verneder word, wanneer die naaste verdruk word, dan rus daar ’n vloek op jou. Wanneer die Ou Testamentiese gasvryheid verag word en daar nie reg aan ’n vreemdeling, weeskind of weduwee geskied laat word nie, dan is jy ’n vervloekte (Deut. 27:19).

Skandalon en dwaasheid (mōrian) is letterlik en figuurlik die vuiltaal van die evangelie. Apatie teenoor die nood en lyding van die naaste val in die kategorie van die ergste struikelblok in die legitimering van God se medelye en genade. Omdat Jesus die hóé van God se ontferming in die modus van offerliefde gedemonstreer het, was sy passievolle lyding (passio Dei) voortdurend ’n struikelblok. Die uitdrukking skandalizesthai en tini (om aanstoot te neem en te verwerp) word dan ook in die Nuwe Testament gebruik om die aard van teenstand teen Christus se offerlyding te beskryf (Guhrt 1976:708), veral as dit dan dui op afstomping en wegdrywing. In dié sin is daar ’n verband tussen skandalon en dit wat die Christelike tradisie geestelike luiheid (Engels sloth) genoem het.

Apatie en onverskilligheid, of luiheid, is beskou as een van sewe doodsondes. Die Latynse woord accidia dui op spirituele traagheid en doodsheid. Dit beroof die mens van alle vorme van lewensvreugde en lei tot godsdienstige weersin (Stalker 1901:116–7). Apatie as spirituele traagheid veroorsaak ’n negatiwiteit teenoor alle vorme van sorg (Stalker 1901:126). Apatie en onverskilligheid beskryf as spirituele kategorieë vorme van algehele lewensvermoeienis (life fatigue, O’Neal 1988:15).

Die geestelike luiaard, die mens sonder pathos, word inderwaarheid ’n vervloekte en verval in die hel van algehele hooploosheid en sinloosheid (spirituele apatie). Daarom die opmerking van Dante voor die poorte van die inferno: “All hope abandon, ye who enter here” (Dante 1909, Canto III, 5).

Die ergste vorm van skandalon word gesien wanneer die mens morele uitnemendheid, godsdienstige legalisme, wetsgehoorsaamheid en rituele godsdienstigheid, soos die besnydenis (Gal. 5:11), stel bó die vrymaking van die heil. Dan word die kruis ’n struikelblok (skandalon). Die feit dat God die Seun met ons plekke omgeruil en in ons plek ’n vervloekte (κατάρας) geraak het (Gal. 3:13), verskerp die oordeel oor vorme van geestelike verslapping en afvalligheid (Heb. 6:6–8).

In Fil. 3:7–8 maak Paulus ’n baie sterk stelling naamlik dat alle uiterlike vorme van godsdienstigheid en sosiaal-nasionale status as voorvereiste vir spirituele toewyding (dit wat moontlike die wins, kerdos, van menslike prestasies kan wees) in wese eintlik niks werd is nie en as spirituele verlies (zēmia) beskou moet word. In Latyn verwys zēmia na damnun (Liddell en Scott 1968:344). In vers 8 gaan Paulus só ver om alle vorme van godsdienstigheid as gemors, afval en drek (menslike uitskeiding – σκúβαλα) te beskou (Liddell en Scott 1968:735). Skúbalon verteenwoordig min of meer dieselfde weerstand en woede teen die uiterlike van menslike prestasiedruk wat Manson (2016) as in die woorde van die titel van sy boek noem “the subtle art of not giving a f*ck – a counterintuitive approach to living a good life”.

 

7. Die medelydende taal van twee Cross-Roads-skilderye (die skandalon en skubalon van plakkerskampe)

Onwillekeurig duik die vraag op: Het die skilderyreeks Cross-Roads enige paradigmatiese skuiwe meegebring? Het dit die doodsonde van apatie aangespreek? Ook die apatie wat die ideologie van apartheid by baie Suid-Afrikaners veroorsaak het?

Ek weet nie.

Tog het die Cross-Roads-ikone my eie oë oopgemaak vir die feit dat die ontmoeting met die pyn van die ander ’n spieël word wat my eie ongevoeligheid ontmasker. Levinas merk op: “The idea of the infinite implies in a very poignant sense ‘the infinite of responsibility’; it is a responsibility for subjectivity as structured by and embedded in the being for the other (être pour l’autre)” (Levinas 1968:xvii; my vertaling en parafrasering). Op ’n aangrypende wyse “skilder” Levinas Abraham se pleidooi vir die mense van Sodom (Levinas 1968:xv) en wys op hoedat ’n morale gewete (conscience morale) ons besorg kan maak vir die welsyn en heling van die ander.

Met ’n skok moes ek ontdek dat die “afskuwelike sonde van Sodom en Gomorra” nie die tradisionele verseksualiseerde interpretasie van Gen. 19:5–8 is nie. Die interpretasie beweer verkeerdelik dat die eise van die manne van Sodom om gemeenskap met Lot se gaste te hê, na die sonde van homoseksualiteit en die perversiteit van “sodomisering” verwys. Dit verwys inteendeel na die sonde van apatie en van spirituele onverskilligheid oor die nood en lyding van die verontregte as gevolg van materialistiese gulsigheid. Duidelik stel Eseg. 16:49–50 dit: “Jou suster Sodom se sonde was dat sy en haar dogters selftevrede en rustig in hoogmoed en oorvloed geleef het en vir die mens in nood en die arme niks oor gehad het nie. Hulle was hooghartig en het afskuwelike dinge gedoen” (Nuwe Afrikaanse Vertaling 1983).

Ek het weer na die eerste skildery oor die verlatenheidskreeu (derelictio) van Christus in die plakkerskamp van Cross-Roads gaan kyk. Ek besef toe dat die Christus-figuur ontblotend naak is. Dit is eintlik genderloos en nóg wit, nóg swart. Dit is nie verseksualiseer nie, maar spreek die morele gewete aan, terwyl dit ’n selektiewe moraliteit en die sonde van onverskilligheid met die skokkende taal van skandalon en skúbalon veroordeel as apatiese hooghartigheid. Die Cross-Roads-ikone resoneer steeds binne die raamwerk van die estetiese optiek van Goddelike afskuwelikheid, aakligheid, lelikheid en weerbarstige woede.

Die twee ikone het my egter verder bewus gemaak van die feit dat teologisering meer erns moet maak met God se medelye, soos gedemonstreer in ’n kruisteologie, naamlik dat solidariteitsmedelye mens bring by die pyn van skandalon en die dogmatiese “kanseltaal” van skúbalon. ’n Teopasgitiese hermeneutiek van die kruis trek mens in binne die gemors en vullis van menslike ellende; dit verbind jou onlosmaaklik aan die volgende paradoksale konsepte:

  • Weerstand en weerloosheid: Sonder weerloosheid ontaard weerstand in geweld.
  • Vloek en heil: Sonder heil word vloek dwase selfvernietiging.
  • Apatie en barmhartigheid: Sonder barmhartigheid word apatie sondige vyandigheid.
  • Staurus (kruis) en skúbalon: Sonder kruis word skúbalon (gemors) selfvernietigende mislukking; die mens word ontmasker as potsierlike, siellose mis-baksel.
  • Woede en genade: Sonder genade word woede boosheid.
  • God en kwaad: Sonder God word kwaad die hel (inferno) van selfverwyt.

 

8. Gevolgtrekking en skokkende navorsingsuitkoms

Die vuiltaal van weerbarstige f*ck (Manson: Ek was nooit goed genoeg nie), van mislukkende skúbalon (Paulus: Ek het God se gemeente vervolg en mense in U naam doodgemaak) is soms nodig as “kanseltaal” in akademiese teologisering. Dergelike terme verteenwoordig paradigmaskuiwe in Pauliniese teologisering. Sulke terme word poëtiese gestaltes van ’n nuwe kruis-pathos binne die pastorale praxis van heling; die konsepte verteenwoordig die radikaliteit van medelydende barmhartigheid. Dit help pastorale versorgers om te kan verstaan dat sorg ’n pynlike demonstrasie is van plaasvervanging, plekomruiling; die skerwe van stukkende mense sny die hart van medelye tot deernisvolle solidariteit (pathos).

Bediening van die passio Dei geskied onder die religieuse wete van vervloeking (κατάρας; damnun). Maar in die vervloeking vind daar volgens Luther ’n vrolike ruil plaas: God in my plek (McGrath 1985). En op dié wyse word die religieusiteit van meelydende sorg gedemonstreer as die opoffering van plekvervangende pathos-volle liefde.

In sy boek Moral blindness. The loss of sensitivity in liquid modernity, wys Zygmunt Bauman op die katastrofe van apatie en die sinlose neutraliteit van onverskilligheid (2013:120). In ’n ander publikasie, Life in fragments. Essays in postmodern morality (1995:56), lewer Bauman ’n pleidooi vir liefdevolle toewyding en sensitiewe medelye as teenvoeter vir die weerloosheid van menslike lyding. Om dit wat hy “being-aside” (diskriminerende eksklusiwiteit) noem, teë te werk, is nodig: “being-with” (solidariteit, medelye, saamhorigheid; ’n gevoel van behoort en vriendskap), en “being-for” (intiemheid en die ervaring van medemenslike welsyn) (Bauman 1995:52–3).

Met die skilderye in Cross-Roads wou ek uitbeeld hoe solidariteit in die sosiale lyding van armoede en diskriminerende ideologieë (soos in die geval van die apartheidsideologie) méér benodig as net wees-met, of wees-vir (affektiewe pathos). Beide moet gedra word deur ’n volhoubare, sorgsame medelye wat nie berus op bloot die affek en gemoedstoestand van empatie of simpatie nie. Daar moet gewaak word daarteen dat solidariteitsdemonstrasies nie bloot gewelddadige, emosionele protes is nie. Die duursaamheid van barmhartigheid beteken die offer van: in-die-skoene/plek-van-die-ander (“being-in-the-place-of”); omruiling wat die estetika van ’n pleitbesorger en priesterlike meelewing demonstreer (Abraham se pleiting vir die afskuwelike sondes van die Sodomiete). En al tree afstomping van ontferming (compassion fatigue) en die slytasie van omgee in, konfronteer die passio Dei pastorale versorgers met die ontiese feit: Pathos is wie ek in Christus reeds is; barmhartigheid (esplanchnizomai) is ’n ontiese grondtrek van eusebeia – die vroomheid van toewyding as demonstrasie van Christus se plek-omruilende pathos, van God se kruis-piëta.

Is dit die boodskap van die ikoniese kunswaarde van ’n estetika van Goddelike weerloosheid aan die kruis? Van die Cross-Roads?

Toe die kollegas in die fakulteit van die Universiteit van die Wes-Kaap in 1999 besluit het om wel weer met die Universiteit Stellenbosch se teologiese fakulteit samesprekinge te hervat, het die volgende gesprek voor die twee Cross-Roads-skilderye plaasgevind. Twee afgevaardigdes van UWK het na die skilderye bly kyk. Die een vra toe die ander: En wat soek hierdie goed in die Bloukamer van die Fakulteit Teologie op Stellenbosch? Ek het agter hulle gestaan. Hulle het nie geweet ek is die kunstenaar nie. Hul slotsom was: As sulke skilderye oor die lyding van swart mense in die heiligdom van hierdie wit fakulteit hang, dan moet ons dit tog oorweeg om met die samesprekinge voort te gaan.

As ek nie so skaam was nie, moes ek waarskynlik al destyds nie net binne-in my nie, maar ook luidkeels na buite, vir die ideologie van apartheid “f*ck” gesê het en ook my apatie oor baie jare as sonde bely het. Het ek tóé al maar my binnegoed laat esplanchnizomai net soos dié van die Vader toe Hy sien sy verlore seun kom terug! Moontlik sou my pastorale pleidooie dan vir die gediskrimineerde ander ’n dieper teologiese legitimiteit besit het. Nou besef ek daar is nie woorde vir deernis nie, net dermklanke in die buik van pathos en skerwe in ’n hart vol barmhartigheid.

Wat ons nodig het, is ’n praktiese teologie van die binnegoed geartikuleer deur die pathos van dermklanke.

The idea behind all God-human encounters is compassion – kenotic love as exemplification of promissio, epangelia, eschaton, parrhesia, ta splanchna, rm, and nn. Bowel categories in a theology of the intestines are used to describe the sincerity and the seriousness of God’s compassion and faithfulness. They refer to modality and to the how of God’s being-with. (Louw 2016:570)

 

Bibliografie

Aycock, D.M. (red.). 1988. Apathy in the pew. Ministering to the uninvolved. South Plainfield: Bridge Publishing.

Barr, A.H. 1975. Picasso: Fifty years of his art. Londen: Seeker en Warburg.

Bauerschmidt, F.C. 2013. Thomas Aquinas. Faith, reason and following Christ. Londen: Oxford University Press.

Bauman, Z. 1995. Life in fragments. Essays in postmodern morality. Oxford: Blackwell.

Bauman, Z. en L. Donskis. 2013. Moral blindness. The loss of sensitivity in liquid modernity. Cambridge: Polity Press.

Berkhof, H. 1973. Christelijk geloof. Nijkerk: Callenbach.

Brown, C. (red.). 1976. Dictionary of New Testament Theology, Vol. 2. Exeter: Paternoster Press.

Bosch, D.J. 1974. Het evangelie in Afrikaans gewaad. Kampen: Kok.

Brümmer, V. 2006. Brümmer on meaning and the Christian faith. Aldershot: Ashgate.

Charry, E. 1993. Academic theology in pastoral perspective. Theology Today, 50(1):90–104.

Cilliers, J. 2012. Dancing with deity. Re-imagining the beauty of worship. Wellington: Bible Media.

Clark, K. 1974. Civilisation. A personal view. Londen: British Broadcasting Corporation en John Murray.

Dante, A. 1909. The divine comedy. Inferno (hell), Canto III. New York: P.F. Collier.

De Gruchy, J.W. 2001 Christianity, art and transformation. Theological aesthetics in the struggle for justice. Cambridge: Cambridge University Press.

Dissanyake, E. 1992. Homo aestheticus: Where art comes from and why. New York: Free Press.

Eco, U. 2004. On beauty. Londen: Secker en Warburg.

—. 2007. On ugliness. Londen: Harvill Secker.

Feuerbach, L. 1904. Das Wesen des Christentums. Leipzig: Verlag Philipp Reclam.

Fretheim, T.E. 1984. The suffering of God. Philadelphia: Fortress.

Guhrt, J. 1976. Skandalon. In Brown (red.) 1976.

Häring, H. 1986. Het kwaad als vraag naar Gods macht en machteloosheid. Tijdschrift voor Theologie, 26(4):351–72. 

Huffington, A.S. 1988. Picasso. Creator and destroyer. New York: Simon en Schuster.

Inbody, T. 1997. The transforming God: An interpretation of suffering and evil. Louisville: Westminster John Knox Press. 

Kaunda, K. 1967. A humanist in Africa. Letters to Colin Morris. Londen: Longman. 

Levinas, E.M. 1968. Totalité et infini. Essai sur l'extériorité. La Haye: Martinus Nijhoff.

Liddell H.G. en R. Scott (reds.). 1968. Greek-English Lexicon. Oxford: Clarendon Press.

Louw, D.J. 2000. Meaning in suffering. A theological reflection on the cross and the resurrection for pastoral care and counselling. Frankfurt am Main: Peter Lang.

Louw, D.J. 2014. Icons: Imaging the unseen. On beauty and healing of life, body and soul. Stellenbosch: Sun Press.

Louw, D.J. 2016. Wholeness in hope care. On nurturing the beauty of the human soul in spiritual healing. Wien: Lit Verlag.

Manheim, K. 1966. Ideology and utopia. Londen: Routledge en Kegan Paul.

Manson, M. 2016. The subtle art of not giving a fck. A counterintuitive approach to living a good life. New York: HarperCollins.

Mathews, T.F. 1993. The clash of Gods. A reinterpretation of early Christian art. Princeton, Oxford: Princeton University Press.

Matzker, R. 2008. Ästhetik der Medialität. Zur Vermittlung von künstlerischen Welten und ästhetischen Theorien. Reinbeck bei Hamburg: Rowohlt Taschenbuch Verlag.

McGrath, A.E. 1985. Luther's theology of the cross: Martin Luther’s theological breakthrough. Oxford: Blackwell.

Migliore, D.L. 2004. Faith seeking understanding. An introduction to Christian theology. Grand Rapids, Cambridge: Eerdmans.

Mtetwa, S. 1996. African spirituality in the context of modernity. Bulletin for Contextual Theology in Southern Africa and Africa, 3(2):21–5.

Nietzsche, F. 1966. Thus spoke Zarathustra. Harmondsworth: Penguin.

O’Neal, T. 1988. Understanding the forces behind apathy. In Aycock (red.) 1988.Pattison, S. 2007. Seeing things. Deepening relations with visual artefacts. Londen: SCM Press.

—. 2013. Saving face. Enfacement, shame, theology. Farnham: Ashgate.

Pentcheva, B.V. 2010. The sensual icon. Space, ritual and the senses in Byzantium. University Park: The Pennsylvania State University Press.

Psalter Hymnal. 1959. Doctrinal standards and liturgy of the Christian Reformed Church. Grand Rapids: Christian Reformed Church.

Reader, J. 2008. Reconstructing practical theology. The impact of globalization. Aldershot: Ashgate.

Rutledge, F. 2015. The crucifixion. Understanding the death of Jesus Christ. Grand Rapids: Eerdmans.

Sartre, J.-P. 1943. L’être et le néante. Paris: Gallimard.

Spivey, N. 2006. Wie Kunst die Welt erschuf. Stuttgart: BBC Books.

Stalker, J. 1901. The seven deadly sins. Londen: Hodder & Stoughton.

Stone, K. 2003. Image and spirit. Finding meaning in visual art. Minneapolis: Augsburg Books.

Taleb, N.N. 2010, The black swan. The impact of the highly improbable. Londen: Penguin Books.

Van de Beek, A. 1984. Waarom? Over lijden schuld en God. Callenbach: Nijkerk.

Vick, K. en W.J. Hennigan. 2019. The world after Al-Baghdadi. Time, 11 November, ble. 6–7.

Welker, M. 1979. Diskussion über Jürgen Moltmanns Buch “Der gekreuzigte Gott”. München: Chr. Kaiser Verlag.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Die estetika van ’n <i>skreeu</i>-lelike, “weerlose God”. Skilderkuns as medium in prosesse van teologies-paradigmatiese transformasie – ver-<i>beeld</i>-ende stank (<i>skúbalon</i>) vir skandalige on-dank (<i>skandalon</i>) appeared first on LitNet.

Gebedspraktyke en geloofsoortuigings van kerklos millenniër-Christene: ’n Ritueel-liturgiese verkenning

$
0
0

Gebedspraktyke en geloofsoortuigings van kerklos millenniër-Christene: ’n Ritueel-liturgiese verkenning

Marileen Steyn, Universiteit van Pretoria en Cas Wepener, Universiteit Stellenbosch

LitNet Akademies Jaargang 17(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Die uitvloei van millenniër-Christene uit baie kerke op internasionale en plaaslike vlak veroorsaak in heelwat kringe bekommernis en onsekerheid. Dié kommer en onsekerheid word in Suid-Afrika versterk deur ’n gebrek aan kontekstuele navorsing wat akademici en gemeentes kan begelei in hul bediening aan kerklos millenniër-Christene. Hierdie navorsing en artikel bied ’n stem in hierdie gesprek deur die geloofspraktyke van kerklos millenniër-Christene vanuit hul gebede te bestudeer, met behulp van die aksioom lex orandi, lex credendi (die reël van aanbidding is die reël van geloof). Die uiteindelike doel is om te kyk hoe daar oor millenniërs se aanbidding herbesin kan word.

Osmer (2008) se model vir praktiese teologiese ondersoek word as metodologie gebruik om ’n chiastiese beweging te vorm wat beweeg vanaf die praktyk van kerklos millenniër-Christene se gebede (lex orandi), tot by hul geloofsoortuigings (lex credendi) en uiteindelik terug na die manier waarop daar saam met millenniërs aanbid word. Gegronde teorie word ook as metodologie gebruik in die ontleding van die gebedsjoernale, waardeur “God, die Versorger, met ons” as ’n kerngeloofsoortuiging van kerklos millenniër-Christene geïdentifiseer word. Tog word daar bevind dat ou Godsbeelde nuwe betekenisse in nuwe kontekste kry, en om hierdie rede is nuwe benaderings tot ontmoetings met God nodig.

Die begrippe en terme anateïsme, ana-ekklesia en analeitourgia word gebruik om nuut te dink oor die wyse waarop God ontmoet moet, waarop daar met mekaar vergader word en hoe God in die alledaagse beleef word. Rituele word as begin- en eindpunt in die herbesinning van aanbidding saam met kerklos millenniër-Christene voorgestel. Dit is met behulp van rituele dat die kerk kan beweeg na ’n alternatiewe, gegronde geloofsgemeenskap wat God in die alledaagse en in die vreemde(ling) ontmoet.

Trefwoorde: ana-ekklesia; analeitourgia; anateïsme; gebed; geloof; kerklos; lex credenda; lex orandi; millenniërs; ritueel

 

Abstract

Prayer practices and faith convictions of churchless millennial Christians: A ritual-liturgical exploration

As of late the church, globally and locally, has expressed concern regarding the absence of the millennial generation in its pews. National and international trends indicate that millennials (of whom many have a church background) are leaving the traditional church – thereby becoming “churchless”. However, research indicates that this trend mostly reflects millennials’ rejection of the church and not the rejection of the Christian faith itself. Therefore there is a need to rethink worship with the millennial generation.

The lack of South African research on millennials and their relationship with the church complicates the task of addressing this need. South Africa’s context differs significantly from those of other countries, so that it would be reckless to apply international research to South African millennials without first contextualising the data.

This research seeks to be a local voice in the discussion about millennials and the church by addressing the following research question: What insights can the prayer practices of churchless millennial Christians offer into their faith practice if the axiom lex orandi, lex credendi (the rule of prayer/worship is the rule of faith) is employed? A second question also presents itself: How can worship with millennials subsequently be reconsidered?

The axiom lex orandi, lex credendi is used to indicate the interdependent relationship between worship and faith. Following this axiom, prayer both reflects and forms faith. Thus, a chiastic movement can be employed to move from the prayer practices (lex orandi) of churchless millennial Christians towards their faith convictions (lex credendi) and back again to possible forms of worship (lex orandi) with this generation. Such a movement also fits Osmer’s model (Osmer 2008, Practical theology: An introduction) for practical theological interpretation, the primary methodology chosen for this research.

In this research the analysis of the prayer practices of a sample of churchless millennial Christians served as the descriptive-empirical task of Osmer’s model. Grounded theory was used as the methodology for this specific part of the research. Grounded theory, as an inductive methodology, is unique in its focus on theory generation and the authenticity of the data.

By coding the prayer journals of both churchless and churchgoing millennial Christians, categories of prayer were identified and used to generate a theory on the faith convictions of churchless millennial Christians. The authors of these prayer journals became co-researchers in this research project as they entered into a form of auto-ethnography in recording their own prayer practices.

The theory generated from the coding and analysis suggests that churchless millennial Christians believe in God, the One who cares for and is with us. This image of God consists of two main ideas, namely God as the provider and God as a relational and immanent God.

Furthermore, it was found that churchless millennial Christians have prayer practices that are fluid in terms of both their structural and spatial components. Many co-researchers indicated a free-flowing structure in their prayers, often accompanied by unconventional spaces such as the dance floor, the mall, and the bathroom. This seems to affirm the faith conviction of an immanent God.

This image of God, the One who cares for and is with us may very well be a faith conviction expressed throughout the Bible, but the new and unique contexts of churchless millennial Christians give new meanings to an old idea. An overview of the contexts of this generation (in terms of factors such as technology, relationships, education and world events) indicates that the categories that emanate from the prayers of millennials have new nuances that ought not to be overlooked.

It can be said that churchless millennial Christians face a wide range of losses that hinder their access to “the good life”. These losses are comparable to the locust plagues in the Biblical book of Joel. In order to guide millennials through their unique context and experience of loss, a new approach to worship is necessary. Such a new approach moves away from a church-centred paradigm where the focus lies on getting millennials back into the pews. Rather, the missional paradigm is called for in which the church gathers in the absence of the church (building) in order to lament, mourn and pray. Such an approach is made possible through the concept of anatheism. Anatheism is focused on seeking God on the other side of traditional ideas of God. Or, put another way: “Seeking God after the death of God”. Essentially, this concept embraces the fears and doubts people might have concerning God in order to meet God as a Stranger.

The anatheistic approach asks the church to move away from the role of an all-knowing authority on God that should be approached in order to receive God. Rather, it encourages an understanding of the church as part of the community of not-knowing, who receive God in humility through hospitality towards the God unknown. Such an approach of not-knowing encourages curiosity and a search for God that yearns to be satisfied. In this approach, doubt may even be encouraged, as it opens the door to new encounters with God. Such an approach does not call the church to silence, but rather towards humility. It is an invitation to let go of the pressure of being in control and instead join a greater community of seekers. Perhaps the church may even encounter, along with churchless millennial Christians, the compassionate and immanent God whom Joel proclaims.

Anatheism reminds Christians that all need to seek God beyond God. But churchless millennial Christians are a stark reminder to the church that it is time to seek the church beyond the church. The church is called to find its identity as church beyond the current formats of being church. One could call it a call towards ana-ekklesia. The missional church defines its identity in the light of its being sent out into the world. Its existence is thus not solely dependent on its functionality as a consumer item within this world. Instead, the church’s identity lies in its task to guide others into the greater story of God and God’s people. The Reformed Church’s name and credo of semper reformanda serves as an incentive to rethink, reimagine and reform its ways. Similarly, the challenge of the millennial generation is not necessarily directed at the church, but at its format. In fact, communities of believers gather in many places outside the church and hence the whereabouts of the (traditional) church could be questioned just as much as the whereabouts of the churchless millennial Christians. 

It is amidst anatheism and ana-ekklesia that analeitourgia is found. This is the art of recognising and creating alternative liturgies that are not reliant on the church building or traditional rituals. Research shows that Christians’ liturgies are often found in everyday places and in everyday activities. The dichotomic separation of secular and sacred no longer holds water. Instead, churches are invited to move into people’s lived theologies towards greater understanding, but also greater participation in the sacrality of the everyday. Therefore, churches are called to both acknowledge and help form missional liturgies and rituals that can move beyond the church walls, beyond the conventionally sacred. In order for churches to do this, five acts are suggested.

The first is to identify rituals (whether conventionally sacred or secular) that play a big role in churchless millennial Christians’ lives and to understand the function of these rituals – specifically in terms of the manner in which they relate to experienced losses or the celebration of the good life. This forms part of the level of analeitourgia. Churches, all members being included, are then invited to join millennials in these spaces during these rituals in order to build relationships and become a part of their spiritual “tribes”. This second act is on the level of ana-ekklesia, as new formats of being church are explored. As part of the anatheistic level, churches are invited to receive God as the Stranger. This third act is an act of discernment. It is because of this discernment that churches can re-enter the level of ana-ekklesia in joining the Spirit in God’s mission. New ways of joining the Spirit among churchless millennial Christians are then pursued as a fourth act. The final act is to return to the level of analeitourgia when the church humbly engages with churchless millennial Christians in challenging and reforming rituals in order to receive God and the Spirit in the everyday.

It is in practising these five acts that the church can move through anatheism, ana-ekklesia and analeitourgia towards forming part of a greater community of faith that is grounded in people’s everyday lives and contexts, and in the work of the Holy Spirit.

Churchless millennial Christians’ prayers may seem conventional, but the generation, by staying away from conventional church (buildings), is implicitly extending a profound invitation to the church. It is an invitation to reconsider the God whom Christians worship (anatheism), the identity and forms of the church (ana-ekklesia) and the acts and spaces that serve as meeting grounds with God (analeitourigia). It is our suggestion that a culture of not-knowing (a lex non credendi), of reforming and of rituality can make worship with this “lost” generation possible.

Keywords: ana-ekklesia; analeitourgia; anatheism; churchless; faith practices; lex credendi; lex orandi; millennials; prayer practices; ritual

 

1. Inleiding

Te midde van die oorvloed stemme wat die millenniërgenerasie bespreek, deel kerke ook hul kommer oor hierdie groep. Die kerk is naamlik besig om ’n tendens op beide internasionale en nasionale vlak waar te neem waarvolgens millenniër-Christene (van wie baie ’n kerklike agtergrond het) glad nie by ’n kerk inskakel nie en dus kerklos word.1 Kinnaman (2011:25) se navorsing wys egter dat hierdie afwesigheid nie noodwendig die verwerping van die Christelike geloof weerspieël nie, maar eerder die verwerping van die kerk as deel van die millenniërs se aanbiddingswêreld. Die vraag is gevolglik hoe kerklidmate ander verstaan wat die kerk as aanbiddingsruimte verwerp en hoe die punt bereik kan word waar daar saam met hulle aanbid word.

Wanneer die verhouding tussen die kerk en kerklos millenniërs ondersoek word, kom die tekort aan plaaslike navorsing duidelik na vore. Die konteks van Suid-Afrika verskil egter te veel van dié van ander lande, sodat navorsing nie bloot van daar af oorgedra en toegepas kan word nie (Van der Westhuizen 2015:12). Daar is dus ’n leemte ten opsigte van plaaslike navorsing oor kerklos millenniër-Christene. 

Dit is vanuit hierdie konteks dat die navorsingsvraag ontstaan het en aan die spesifieke fokus van die gebedspraktyke van millenniër-Christene gekoppel kan word: Watter insigte kan die gebedspraktyke van kerklos millenniër-Christene vir hul geloofsoortuigings bied wanneer die aksioom lex orandi, lex credendi (die reël van gebed/aanbidding is die reël van geloof) toegepas word? Voortvloeiend uit hierdie eerste vraag kom ’n tweede vraag: Hoe kan daar gevolglik oor millenniërs se aanbidding herbesin word?

 

2. Lex orandi, lex credendi

Die vertaling van lex orandi, lex credendi is omstrede (sien Geldhof 2010:165–6; De Clerck 1994), maar oor die algemeen word dit vertaal as die wet van gebed bepaal die wet van geloof, en ook die manier waarop jy bid, bepaal wat jy glo (McGrath 2011:142; Smit 2004:2).

Hiermee word daar nie bedoel dat gebed of aanbidding belangriker as dogmatiek is nie, maar eerder, soos wat Geldhof (2010:166) uitlig, dat die twee wedersyds afhanklik is. Tog meen Kangwa (2017:480) dat aanbidding die eerste uitdrukking van geloof bly. Op soortgelyke wyse redeneer Elizabeth (2016:73) dat taal geloof skep of onderhou. Smith (2009) se teorie van die mens as homo liturgicus stel dit verder ook dat die gevoelsmatige die nadenkende vooraf gaan (Smith 2009:58–9).

Die gebruik van hierdie aksioom is konteksgebonde (De Clerck 1994:178). In tye van standvastigheid sal dit vir mense sin maak om die reël van aanbidding te gebruik om agter te kom wat geglo word (De Clerck 1994:179), terwyl die reël van geloof in tye van liturgiese hervorming gebruik word om die reël van aanbidding te verander. Die navorsing vir hierdie projek het albei praktyke geïnkorporeer, aangesien die lex orandi juis in ’n tyd van verandering gebruik is om die lex credendi te verstaan. So ook word die lex orandi vanuit die insigte oor kerklos millenniër-Christene se lex credendi herbesin. Albei elemente speel dus ’n normatiewe rol. Die navorsing gebruik wel die term lex orandi breër as in die oorspronklike bron deur ook na aanbidding in die geheel te verwys.

 

3. Lex orandi – ’n gegronde teoretiese studie

Die navorsing het Osmer (2008) se metodologie vir praktiese teologiese ondersoek gevolg. Osmer se model, wat op ’n sterk akademiese grondslag geskoei is, verbind die krities belangrike komponent van empiriese navorsing met die hermeneutiese benadering (Osmer 2011:2; Pieterse 2017:3). In hierdie navorsing het die empiriese komponent uit ’n gegronde teoretiese studie van gebedsjoernale bestaan.

Geskoei op die werk van Bryant en Charmaz (reds.) (2007:608) en Steyn (2016:21) kan gegronde teorie beskryf word as ’n induktiewe benadering tot kwalitatiewe en kwantitatiewe navorsing wat deur middel van abduktiewe denke nuwe teorieë genereer wat in die data gegrond is. Die doel is dus nie om literatuur in die praktyk te begrond nie, maar om vanuit die praktyk na die teorie te beweeg. Die klem val dus op teoriegenerering en die betroubaarheid van die data (Urquhart 2013:13). 

Daar is gekies vir ’n kwalitatiewe benadering tot die navorsing wat die realiteit (wat deur die data verteenwoordig word) as subjektief en sosiaal gekonstrueer beskou en dit dus eerder interpreteer as om dit, soos in die geval van kwantitatiewe navorsing, positivisties te benader (Yilmaz 2013:314). Gegronde teorie en kwalitatiewe navorsing is goeie pasmaats, omdat kwalitatiewe navorsing juis op die insigte wat uit data verkry kan word en/of die generering van teorieë, gefokus is (Birks en Mills 2011:16; MacDonald en Hedlam 2011:8). 

Die empiriese steekproef is deur teoretiese steekproefneming, soos in Birks en Mills (2011:69) en Pieterse (2010:119, 123) verduidelik word, aangepas en aangevul. Die steekproef het bestaan uit 16 millenniër-Christene2 woonagtig in die Wes-Kaap wat vrywillig ingestem het om deel te neem. Teoretiese steekproefneming is wel gebruik om die databron ten opsigte van geslag en ouderdom te balanseer. Die eerste agt deelnemers was kerklos3 en het deel van die eerste siklus van oop kodering uitgemaak, terwyl die ander agt deelnemers kerkgaande was en deel van die tweede siklus van selektiewe kodering uitgemaak het.

Elke deelnemer is gevra om vir ’n periode van twee weke ’n gebedsjoernaal te hou. Die millenniërs se deelname word as ’n vorm van outo-etnografie beskou. Alhoewel outo-etnografie tradisioneel verwys na die wyse waarop ’n navorser hom- of haarself bestudeer, verwys dit in hierdie geval na die wyse waarop die millenniërs hulself en hul gebedspraktyke bestudeer het (Brunsdon en Lotter 2011:3). Om hierdie rede word daar verder na hulle as medenavorsers verwys.

Gebed is breed gedefinieer en medenavorsers is aangemoedig om enige gesprek met God, hetsy formeel of informeel, neer te skryf. Hierdie gebede is verbatim of volgens tema opgeskryf, afhangende van waarmee die medenavorser gemaklik gevoel het.4

Tydens die eerste siklus van oop kodering is die gebede in kleiner stukke data verdeel ten einde die data te vermeerder en die ontleding te verdiep.5 Dié kleiner stukke data is toe gekodeer. As deel van hierdie proses is verwante inhoud aan mekaar verbind om kategorieë te vorm. 35 kategorieë is geïdentifiseer. Verwante kategorieë is verbind om uiteindelik 18 groter kategorieë te vorm. Dié kategorieë is geëtiketteer om die onderliggende geloofsoortuiging te weerspieël. Die volgende groter kategorieë is geïdentifiseer:

  1. God gee en doen – generies
  2. God gee liefde, genade en seën
  3. God gee krag en hulp
  4. God gee fisiese voorwerpe
  5. God gee wysheid, waarheid en insig
  6. God gee die goeie / sukses
  7. God help ons groei
  8. God versorg
  9. God sien om na fisieke welstand
  10. God sien om na emosionele welstand
  11. God gee vergifnis
  12. God gee en ons praat oor mense en verhoudings
  13. Ons praat oor spesifieke gebeure, take en situasies
  14. Ons praat oor alledaagse leefwêreld en roetine
  15. Ons soek (kontak met) God en sy wil
  16. Ons erken God se Goddelikheid
  17. Ons struikel
  18. Ons sê dankie. 

Tydens die tweede siklus van selektiewe kodering is slegs twee nuwe kategorieë geïdentifiseer, naamlik (i) God gee die natuur, en (ii) God gee redding deur die kruisgebeure. Die voorkoms van beide hierdie kategorieë kan egter toegeskryf word aan die verskil in tydperk waartydens die joernale gehou is (Desember/Januarie teenoor Maart/April). Tematies gesproke is daar dus nie ’n beduidende verskil tussen die gebede van kerklos en kerkgaande millenniër-Christene nie.

Dit is wel merkwaardig dat die kerklos medenavorsers meer geneig was as die kerkgaande medenavorsers om vir die volgende kategorieë te bid: God gee fisiese voorwerpe; Ons soek (kontak met) God en sy wil; Ons erken God se Goddelikheid en Ons struikel. Hierin lê leidrade vir die kerklos millenniërs se soeke na ’n verbintenis met God. Dit is ’n waarskuwing dat “kerklos” nie met “apaties” verwar moet word nie. Waar kerkgaande millenniër-Christene wel vir die bogenoemde kategorieë gebid het, het daar baie meer kodes na vore gekom. Dit wys iets van die belangrikheid van hierdie kategorieë onder die kerkgaande medenavorsers wat wel oor hierdie sake gebid het. Onder kerkgaande medenavorsers het daar baie meer kodes vir God help ons om te groei na vore gekom. Dus kan daar ’n verband tussen kerkbywoning en groei in dissipelskap en op ’n persoonlike vlak getrek word.

Verder was daar ook ’n verskil in rituele tyd en ruimte. Dit wil blyk dat kerkgaande millenniër-Christene meer gestruktureerd bid (bv. oggend- en aandgebede) terwyl minstens die helfte van die kerklos millenniër-Christene ’n groter vloeibaarheid in hul gebedspraktyke aangetoon het.

Die einddoel van ’n gegronde teoretiese ondersoek bly egter teoriegenerering en vir hierdie doeleindes is die kategorie God versorg as die kernkategorie van kerklos millenniër-Christene se gebede geïdentifiseer. Deur middel van aksiale kodering is die derde siklus van gegronde teorie voltooi, soos in Figuur 1 aangedui.

Figuur 1. Aksiale kodering met “God versorg” as kern-kategorie

God versorg bestaan uit twee komponente, naamlik die voorsienende rol van God en die verhoudingskomponent. 

Uiteindelik is daar gevind dat die godsbeeld van God, die Versorger, met ons sentraal staan. God word dus gesien as ’n Voorsiener wat betrokke is in mense se lewens en met wie hul kontak en ’n verhouding kan hê. Die gesprekstyl wat in heelwat van die gebede voorkom en deur die medenavorsers self verduidelik is, dui op ’n meer intieme verhouding met Iemand wat deurlopend teenwoordig is. Die lex orandi getuig dus van ’n geloofsoortuiging van “God, die Versorger, met ons”.

 

4. Lex credendi – die nuwe uit die oue

4.1 ’n Nuwe konteks

“God, die Versorger, met ons” is egter nie ’n nuwe geloofsoortuiging nie. Die konteks van millenniërs verskil te drasties van die konteks van die Bybelverhale om dié geloofsoortuiging sonder verdere nabetragting te aanvaar. Wanneer die konteks van millenniër-Christene verstaan word, kan nuwe nuanses van ’n ou geloofsoortuiging waargeneem word.

Millenniërs is die mees diverse generasie. Ten spyte van die invloede van globalisering en tegnologie kan die groep nie as homogeen beskou of gehanteer word nie (Steyn 2018; Hamman 2019, loc. 231). Tog kan die konteks van millenniërs met behulp van vier bakens ontleed word, naamlik (i) die beskikbaarheid en gebruik van tegnologie; (ii) familie, vriende en sosiale wisselwerking; (iii) onderrig; en (iv) groot gebeurtenisse (Steyn 2018). Dit moet in gedagte gehou word dat hierdie kontekste volgens sosio-ekonomiese vlak kan verskil. Wat volg, is maar algemene opmerkings met die gemiddelde medenavorser se konteks in gedagte. 

Millenniërs leef in die tyd van tegnologiese omwenteling met ’n oorvloed van inligting (information overload). Die neweproduk hiervan is egter, in die woorde van ’n gespreksgenoot, ’n vorm van waansin, want mense het nie die wysheid om met al die beskikbare inligting om te gaan nie (Steyn 2018; Kinnaman 2011:30). Hierdie “waansin” word vererger deur die groeiende voorkoms van vals nuusberigte en postwaarheid filosofie en politiek.

Tegnologie bied ook uitdagings en geleenthede met betrekking tot familie, vriende en sosiale wisselwerking. Te midde van ’n netwerkkultuur waar menseverhoudings op sosiale media gefasiliteer word, is daar steeds onsekerheid of hierdie platforms menseverhoudings op ’n positiewe wyse bevorder.6 Ongeag hierdie onsekerheid word daar gevind dat millenniërs, onder andere as gevolg van hul ouderdom en lewensfase, hoë vlakke van eensaamheid beleef (Howe 2019). Eensaamheid kan bydra tot die hoë voorkoms van angs en gemoedsversteurings waaraan millenniërs erken word (Hamman 2019:23). 

In die Suid-Afrikaanse konteks is onderrigvlak die faktor waar daar die minste veralgemeen kan word. Daar is steeds groot verskille in die vlak van onderwys wat Suid-Afrikaners geniet, en die skeiding is steeds merendeels volgens ras (Ngozo en Mtantato 2018; SAHRC 2017:17). Die vlak van onderwys skep ook in latere stadiums diversiteit, aangesien millenniërs ook volgens hul sosio-ekonomiese konteks onderskei kan word (Dicey 2016).

Laastens speel groot gebeure en tendense soos ekonomiese onbestendigheid (Wasserman 2019), politieke onstabiliteit (Marsh 2019) en ’n ekologiese krisis (Martine en Alves 2015:434) ’n groot rol in millenniërs se konteks. Tegnologie gee ’n konstante vloei van internasionale nuus, met die gevolg dat slegte nuus nie net die betrokke lande beïnvloed nie, maar ook dié wat van die nuus hoor (Reader 2008:9–11). Hierdie gebeure, insluitende staatskaping en stygende egskeidingsyfers, sowel as Suid-Afrika se geskiedenis van apartheid wat deur die politici en die kerk ondersteun en bevorder is, dra daartoe by dat formele en tradisionele instansies en gebruike hul geloofwaardigheid onder millenniërs verloor. 

Baie millenniërs se konteks word verder gekompliseer deur die nuutgeïdentifiseerde lewensfase van ontluikende volwassenheid waarin baie hulle bevind (Arnett 2010:90; Greyling 2018:74–7). Dit verwys na die wyse waarop millenniërs die fase van volwassenheid láter betree omdat hulle langer studeer, later die werksplek betree, later uit die huis trek en later (indien enigsins) trou (Arnett 2010:90; Hamman 2019:21). Die voorkoms van ontluikende volwassenheid is konteksgebonde. In ontwikkelende lande soos Suid-Afrika word hoofsaaklik net stedelike middelklasjongmense van hoër inkomste en opleiding in hierdie lewensfase geplaas (Arnett 2019, s.p.). Saam met hierdie fase kom ’n reeks uitdagings wat maatskaplike, psigologiese en morele probleme insluit (Smith, Christoffersen, Davison en Herzog 2011).

’n Nuwe konteks bring dus nuwe verliese, of ou verliese in nuwe vorme. Die konteks soos bespreek, getuig van verliese aan wysheid, waarheid en insig in gesonde verhoudings, sowel as aan emosionele en fisieke welstand. Ekonomiese en politieke onstabiliteit, sowel as werkloosheid kan ook lei tot wat Mitchell en Anderson (1983:40) as intrapsigiese verlies aandui – die verlies aan die droom en aan dít wat kon gewees het. Dit is dan geen wonder nie dat kerklos millenniër-Christene juis vir al hierdie positiewe dinge bid.

Hamman (2019) stel die verliese wat millenniërs beleef, gelyk aan die sprinkaanplae in die Bybelse boek Joël. Hy beveel die narratief van Joël aan om millenniërs te help beweeg na ’n groter narratief en na die goeie lewe waarna hulle streef (Hamman 2019:180). Tog is die kerk en samelewing swak toegerus om hierdie verliese te identifiseer, te benoem en deur te werk (Hamman 2019:2–3). Daarom is ’n nuwe benadering nodig.

4.2 ’n Nuwe benadering

’n Nuwe konteks vra ’n nuwe benadering tot aanbidding, sodat daar vanuit verliese na die goeie lewe beweeg kan word. Joël is hier van hulp wanneer hy die volk na afloop van die sprinkaanplae oproep om te vergader en deel te neem aan liturgiese handelinge soos rou, vas en gebed (Hamman 2019:4,7). Sou Joël se oproep dan nie juis beteken dat millenniërs kerk toe moet kom nie? Só ’n kerk(gebou)-gesentreerde benadering is egter nie meer effektief nie, omdat millenniërs, wat wel graag vergader en gemeenskappe skep, verkies om dit buite die tradisionele verstaan van kerk en kerkwees te doen (Hamman 2019:69).

Die redes hiervoor is veelvoudig. Kinnaman (2011) fokus op die wyse waarop die kerk versuim om millenniërs te help om verhoudings te bou, om hul roeping te ontwikkel en om in wysheid te groei. Ander kritiek teen die kerk sluit in dat die kerk oorbeskermend, oppervlakkig, antiwetenskaplik, seksueel onderdrukkend, eksklusief en twyfelloos is (Kinnaman 2011). Te midde van Ammerman (2014, loc. 2325–502) se verskeidenheid redes vir kerkverlating, staan die rol van oorgange in jongmense se besluite om die kerk te verlaat, uit. Om hierdie redes (en waarskynlik vele meer) kies millenniërs téén die kerk as hul tempel. 

Die profeet Joël wys egter dat die tempel nie noodsaaklik is om in te vergader of te aanbid nie, maar dat die verbintenis met God steeds deur gebed (lex orandi) onderhou kan word (Hamman 2019:34). Dit gryp terug na ’n missionale begrip van kerkwees waar die kerk se identiteit lê in die wyse waarop sy na die wêreld uitgestuur word (sien Bosch 2011:400). Dit is om te onderskei waar God aan die werk is en daarby aan te sluit – en God werk tog nie net in die kerkgebou nie (Algemene Sinode 2013:206). Baie van die voorbeelde van “God, die Versorger, met ons” geskied immers buite die tradisionele tempel of kerk. Die uitdaging vir die kerk is dus nie net om mense saam te bring by die kerkgebou nie, maar om ruimtes te vind om met millenniërs saam te kom of te vergader (Hamman 2019:44).

Hier ontstaan kreatiewe spanning tussen die gas en gasheer in die ontmoeting van die ander (Kearney 2010:27, 46). Alhoewel die kerk lank daaraan gewoond was om die rol van gasheer in die ontmoeting van ander te speel, moet kerklike mag nou prysgegee en gasvryheid betoon word deur sonder enige mag na die millenniërs te kom. Die kerk kan dus slegs deur ’n gas te word, ’n gasheer vir millenniërs word. 

Die nuwe benadering behels nie die verwerping van die kerkgebou as ruimte vir ’n ontmoeting met God nie, maar vra wel vir ’n uitleef van God se gasvryheid teenoor ander deur vanaf ’n bediening aan millenniërs na ’n bediening saam met millenniërs te skuif. Sodoende vorm die kerk dan deel van mense se sogenaamde geestelike of spirituele binnegroep (spiritual tribes – Ammerman 2014, loc. 361). Hierdie binnegroepe luister na die heilige en gewyde stories, maar tree ook normatief op deurdat hulle help om die storie te skryf.

Tog het min kerke rituele wat ook hul millenniërs begelei ten tye van ’n verlies van ’n huwelik, ’n verhouding, ’n werk of ’n fetus.7 Daar is navorsing wat in hierdie rigting beweeg (sien Wepener en Greyling 2019), maar as dit by die praktyk kom, staan dit nog grootliks op die kantlyn. Die kerk moet begin om nie net betekenisvolle rituele daar te stel nie, maar ook die belang of betekenis van die rituele wat wel daar is, sterker uit te lig (Kinnaman 2011:121). Vanuit ’n nuwe benadering kan daar oorbeweeg word na ’n nuwe ontmoeting met God.

4.3 ’n Nuwe ontmoeting

Millenniërs se ontmoetings met God lyk anders as vantevore, omdat millenniërs tradisionele denke en gebruike bevraagteken (Hamman 2019, loc. 122). Die middele wat tradisioneel as ruimtes van ontmoeting met God voorgehou word (die Bybel, gebed, die sakramente en die kerk), word in baie Westerse lande bevraagteken en selfs verwerp (Hamman 2019, loc. 199). Daarom skryf Meylahn (2012:38) dat die postmoderne konteks vra dat die kerk se klem weg van verkondiging verskuif na luister, gesels, dialoog, vertolk en ontvang.

Anateïsme is vir Kearney (2010:3) die antwoord op die vraag na hoe mens kan voortgaan om oor die heilige te praat en geloof te hê wanneer God (of ten minste tradisionele denke oor God) aan die verdwyn is. Hoe kan mens geloof anderkant ongeloof kry, God anderkant God? Kearney wys daarop dat God op ander plekke as by die self (dit wat die mens self alreeds weet of glo) ontmoet moet word omdat die mens, as gasheer of -vrou, vir God as Vreemdeling, as ’n Gas, ontmoet.

Gesprekke oor God anderkant God is van toepassing op alle Christene, omdat niemand vrygestel is van tye van ongeloof nie (Kearney 2010:5–6). Tog is hierdie oomblikke van twyfel een van die hoofredes waarom Christene die kerk verlaat (Kinnaman 2011:186). Die uitdaging van die kerk is om ’n ruimte te word waar twyfel in en getrouheid aan God in kreatiewe spanning gehou word, sodat die twee mekaar kan aanvul in plaas van aanval (Kinnaman 2011:187). 

Rollins (2006:25) lig die belang van ongeloof in geloof uit deur a/teïsme onder Christene aan te moedig. Hy meen dat ateïsme deurgetrek moet word sodat die mens ongeloof het in die God in wie mens glo. Dit is om in God te glo, maar om te twyfel in dit wat oor God geglo word (Rollins 2006:26). Hierdie a/teïsme is noodsaaklik as gevolg van die mens se beperkte vermoë om God in God se grootsheid te verstaan. Dus help hierdie tipe (on)geloof ook die gelowige om ’n afgodsteologie (waar mense se beperkte begrip van God gelykgestel word aan wie God werklik is) te laat vaar (Rollins 2006:2). Hierdie benadering stel mens in staat om weerloos te staan in die aangesig van die mens se onvermoë om alles van God te weet en om sodoende vir God op ’n nuwe manier in die alledaagse te ontmoet (Kearney 2010:5). Dit gryp terug na Anselmus se bekende uitdrukking “geloof op soek na begrip” (Ward 2017:33). 

Anateïsme werk op ’n soortgelyke wyse met twyfel en geloof en skep daardeur ’n ruimte waar ongelowige Thomasse nie net geduld word nie, maar met ope arms verwelkom word – nie omdat die kerk so genadig is nie, maar omdat die kerk besef dat juis hierdie ongelowige Thomasse wat hul hande in die sy van Christus steek, die voorlopers in nuwe ontmoetings met God kan wees. 

Prakties beteken dit dat die kerk nie regtig in beheer oor idees oor God is nie. Millenniërs kan die kerk help om te onderskei waar en hoe God in hul konteks werk. Dit is om beheer te laat vaar oor die inhoud van geloofsgesprekke. Dit beteken nie die kerk moet stilbly nie. Dit beteken slegs dat die kerk ook nie al die praatwerk doen nie. Die doel hier is nie tradisionele evangelisasie waar millenniërs Jesus in hul lewe moet toelaat en ontvang nie, maar die doel is eerder ’n soeke na die wyse waarop mense hulself vir ’n ontmoeting met God as Vreemdeling kan oopstel (Müller 2011:174). 

Die kerk kan egter steeds ’n getuie wees van die barmhartige God van Joël wat die mens te midde van die verwoesting van sprinkaanplae ontmoet (Hamman 2019:55). Hierdie beeld van God is nie ver verwyder van God, die Versorger, met ons nie. Wanneer hierdie ontmoeting met God, die Versorger, met ons plaasvind, word daar na ritualiteit oorbeweeg, soos gesien kan word uit die dankgebede van die kerklos millenniër-Christene. Daar word dus gevra na ’n samekoms en lex orandi wat vanuit ’n lex non credendi (reël van ongeloof) beweeg om sprinkaanplae te berou en ontmoetings met God, die Versorger, met ons te vier.

 

5. Lex orandi – ’n gegronde geloofsgemeenskap

5.1 Kerk anderkant kerk

Die uitdaging is om God anderkant God te soek. Die uitdaging wat egter voor die kerk lê, is om kerk anderkant kerk te soek. Wie is die kerk dus wanneer die voorafopgestelde idees van kerkwees wegval? Om dit te kan beantwoord, moet die redusering van kerkwees tot die bywoning van ’n gestruktureerde en geskeduleerde samekoms laat vaar word. Dit gaan oor hóé die kerk nuut kerk kan wees.

Sommige mag vra of dit nie tyd is om te erken dat die kerk in totaliteit ’n argaïese en oortollige instansie is nie. Vandag is daar tog genoeg netwerke (fisies en virtueel) wat aan ’n gelowige die dinge kan bied wat die kerk vir so lank onontbeerlik gemaak het. Tog word daar steeds van die kerk verwag om ’n rol in bemiddelende godsdiens tydens groot gebeure en vieringe te speel (Davie 2007, loc. 348). Die kerk en kerklike dogma word dus nog ’n funksie, nog ’n verbruikersitem.

Die kerk verkoop egter nie godsdienstige produkte nie, maar is ’n gemeenskap van gestuurdes om die Goeie Nuus van God se storie met God se mense te verkondig (Keum (red.) 2013:29). Die kerk se voortbestaan is in hierdie geroepenheid gesetel, maar ook in die kerk se vermoë om ander te begelei om in die storie van God en God se mense in te tree. Die kerk móét uitgaan na die wêreld (Bosch 2011:400; Algemene Sinode 2013:203).

Ammerman (2014, loc. 1081) se navorsing toon duidelik dat persone wat gereeld godsdienstige byeenkomste bywoon, meer geneig is om hul spiritualiteit in verskeie ruimtes en op verskeie maniere uit te leef. ’n Soortgelyke verband is in die empiriese navorsing aangetref.

Smit (2009:106) beskryf die erediens as sentraal tot die gereformeerde identiteit. Gereformeerdheid is egter nie in ’n bepaalde formaat nie, maar eerder die reformerende aard van die kerk (Smit 2009:94). Dit is kenmerkend van die gereformeerde tradisie dat gebruike soos die erediens voortdurend heroorweeg word. Daarom kan die formaat en inhoud van eredienste vernuwe en anders aangebied word (Smit 2009:94). Meylahn (2012:33) skryf dat veranderinge as reaksie op die postmoderne konteks nie kosmetiese veranderinge kan wees nie. Dit gaan eerder oor ’n dieper teologiese verandering. Vanuit hierdie teologiese verandering vloei ’n formaat wat missionaal, eerder as aanloklik, is.

Die tradisionele erediens hoef dus nie totaal afgeskaf te word nie, maar alternatiewe vorme van eredienste moet ook geskep en erken word. Hiervan is die Fresh Expressions-beweging8 ’n goeie voorbeeld. Sodoende kan die kerk se kontrakulturele roeping vervul word deur téén ’n individualistiese kultuur, wat ook soms godsdiens ’n individuele saak wil maak, te getuig. Drescher (2016) lig wel uit dat mense wat nie kerk bywoon nie en/of nie ’n godsdiens beoefen nie, se spiritualiteit nie noodwendig individualisties is nie, maar bloot dat hulle geloofsgemeenskappe anders lyk. Kan die kerk hierdie gemeenskappe raaksien en by hulle aansluit?

Gereformeerdheid word sodoende dus weer ’n moontlikheid vir millenniërs – nie deurdat hulle die klassieke erediens bywoon nie, maar wel deurdat hulle in ’n vorm van ’n gemeenskap van gelowiges tree. Die uitnodiging aan die kerk is om die ou idees van hoe kerk moet lyk, te laat afsterf en as gemeenskap van gelowiges uit die as op te staan sodat daar kerk anderkant kerk (ana-ekklesia) kan wees.

5.2 Geleefde teologie

Anateïsme en ana-ekklesia maak analeitourgia moontlik. Volgens Klomp en Barnard (2018:28) maak Kearney se anateïsme die weg oop om klassieke begrippe oop te breek sodat dit moontlik is om sakramentaliteit te sien in handelinge wat in ’n streng kerklike sin nie as sakramenteel gesien sou word nie. Schippers (2015:229) gebruik die term heiliging van die alledaagse (casual sacrality) om te verwys na die vlugtige, terloopse, gemaklike en informele formaat van aanbidding (sien Klomp en Barnard 2018:29). Klomp en Barnard (2018:30) bou voort hierop met die term sakramente van die alledaagse (casual sacramentality). Dit is om God (of die Ander) in die fisieke bestaan te verwelkom.

Hierdie heiliging van die alledaagse en sakramente van die alledaagse hou verband met geleefde teologie. Dit verwys na die wyse waarop teologie in ’n verhouding met God uitdrukking deur rituele en praktyke in die alledaagse lewe kry en hoe dit teologie in daardie alledaagse lewe beïnvloed (Miller-McLemore 2012:103).

Om die geloofsgemeenskappe en geloofspraktyke wat wel daar is, te begin herken, is dit nodig om die geleefde teologie van kerklos millenniërs te verstaan – nie net in terme van hulle gebede nie, maar in totaliteit. Hierdie geleefde teologie is hibried en verkry inspirasie uit beide spirituele en ateïstiese wêreldbeskouinge, uit beide die heilige en die wêreldse (sekulêre; Gräb 2012:86–7; Ward 2017:57, 86–7). Die wyse waarop die kerk die spirituele en die wêreldse van mekaar skei, word in elk geval deur millenniërs as vals beskou (Kinnaman 2011:97).

Ammerman (2014, loc. 5585) se navorsing dui daarop dat die meeste godsdienstige persone spirituele praktyke het wat met alledaagse, soms skynbaar wêreldse, aktiwiteite te make het. Om Bybel te lees, kerk by te woon en te bid is dus maar slegs ’n gedeelte van die spirituele lewe van die gelowige. Of ’n ruimte of aktiwiteit heilig is of nie, word bepaal deur die individu se toe-eiening van die ruimte (Ammerman 2014, loc. 5611). Hierdie alledaagse karakter van geleefde teologie verbreed die klem vanaf die tipiese spirituele praktyke na die mees eenvoudige handelinge, soos stokperdjies en ontspanning (Ganzevoort en Roeland 2014:95).9 

5.3 Rituele 

Geleefde teologie lei dus tot ’n analeitourgia wat liturgieë in nuwe vorme giet. Dit is om liturgie ook anderkant tradisionele (en kerklike) vorme van liturgie te soek. Waar anateïsme die weg oopmaak om nuut te dink oor liturgieë, maak analeitourgia die weg oop om nuut te dink oor rituele. Rituele vorm die beginpunt van hierdie navorsing, maar dit word voorgestel as die eindpunt. Daarom word rituele voorgestel om deur middel van nuwe vorme van liturgie (analeitourgia) in nuwe samekomste (ana-ekklesia) iets van die misterie van God (anateïsme) te ontdek.

Die kerk is gewoond daaraan om te dink oor rituele binne die tradisionele erediens(ruimte), en hierdie denke is belangrik. Navorsing onder Jode wat nie aan ’n sinagoge verbonde is nie, beklemtoon egter die rol van rituele buite die erediens (Davidman 2007, loc. 876). Daar is wel ’n beweging in protestantse kringe na ’n “aktiewe soeke na ’n liturgie wat die alledaagse lewe beïnvloed” (Wepener 2009:189). 

Om rituele buite die erediens te bestudeer, beteken ook om te kyk na missionale rituele wat vanuit die kerk na buite, na millenniërs, beweeg. Volgens Handleiding vir die Erediens (Nederduitse Gereformeerde Kerk 2010:227) is missionale rituele (of liturgie) dus meer as net rituele wat gerig is op diegene wat nie gewoonlik aan die liturgie van gemeentes deelneem nie. Dít is sluit rituele buite die erediens in (Wepener 2008:12).

Dit is belangrik om te besef dat missionale rituele nie noodwendig vra dat die diepte van die kerk se eie rituele prysgegee of versag moet word nie. Die nagmaal hoef byvoorbeeld nie met bloot ’n simboliese handeling vervang te word soos in die Handleiding vir die Erediens (Nederduitse Gereformeerde Kerk 2010:228) voorgestel word nie. Millenniërs soek nie soetsappige antwoorde nie en beskuldig juis die kerk van oppervlakkigheid (Kinnaman 2011).

Ammerman (2014, loc. 294) beklemtoon die belang van rituele in die alledaagse en wys daarop dat die veranderinge van die tye verhoed dat godsdiens slegs in voorspelbare ruimtes of vorme gevind word. Hierdie siening is in ooreenstemming met anateïsme, ana-ekklesia en analeitourgia wat juis van voorspelbare vorme wegbeweeg na ’n openheid om God en kerk in alternatiewe ruimtes te vind. Van die heilige (sakrale) rituele wat geïdentifiseer is, sluit tradisionele Christelike rituele in, maar so ook oefening, kuns, en die besteding van geld. Soortgelyk hieraan handel Warren se Liturgy of the ordinary (2016) oor die heilige in alledaagse roetines soos bedopmaak, tandeborsel en jou sleutels verloor. Interessant genoeg was gebed die mees spirituele algemene praktyk in Ammerman (2014, loc. 1298) se navorsing. Gebed was selfs deel van die roetine van sommige kerklos lidmate, soos ook in ons navorsing gevind is (Ammerman 2014, loc. 1340).

Ons het egter ook bevind dat gebed nie noodwendig tot tradisionele handelinge en ruimtes beperk is nie. Die medenavorsers skryf immers oor gebed tydens meditasie en dans, in die badkamer en in die winkelsentrum. Dink die kerk ook aan hierdie praktyke en plekke wanneer hulle oor millenniërs se geloofslewe besin?

Hoe sal nuwe missionale rituele dan lyk? Osmer (2008) se model vir praktiese teologiese ondersoek vra immers nie net na dit wat aan die gebeur is nie. Die pragmatiese vraag in die model behels ook dat die navorser soek na gepaste benaderinge as reaksie op dit wat aan die gebeur is (Osmer 2008, loc. 91). Watter rituele kan ontwikkel word om te dien as reaksie op ’n generasie wat kerklos is, maar steeds in God, die Versorger met ons glo?

Figuur 2. Voorstel vir die ontwikkeling van missionale rituele

Die wyse waarop nuwe missionale rituele ontwikkel kan word, word hier skematies voorgestel, en hierdie skema is ’n vergestalting van hoe al die insigte vanuit die teoretiese literatuur en insigte uit die empiriese studie tot ’n geheel geïntegreer word. Die voorstel word in Figuur 2 geïllustreer. 

’n Goeie beginpunt vir die kerk kan wees om met die konkrete, geleefde teologie van millenniërs te werk. Twee fasette is hier van belang, naamlik die rituele (hetsy heilig of nie) wat daar alreeds in millenniërs se alledaagse lewens is en die unieke kontekste van die millenniërs, veral kragtens hul verliese en vieringe (in die besonder rondom liminaliteit). Die doel is om te kyk watter rituele by watter kontekste pas, met ander woorde watter doel dien elk van die rituele. Watter verliese of vreugdes word beklaag of gevier en watter nie? Braaivleisvure, sosiale media en reis het byvoorbeeld dikwels te make met oorgangsmomente of met vieringe van (of selfs die soeke na) die goeie lewe.

Om hier te begin, is om te (h)erken dat rituele reeds deel is van millenniërs se bestaanswêreld en een van die kernmaniere is waarop hulle hul identiteit en waardes uitdruk. Die doel is nie hier om onkrities te kyk nie, maar eerder om te beskryf en ’n beeld van millenniërs se geleefde liturgieë te kry. Die kerk werk in hierdie model vanuit ’n plek van weerloosheid (vanweë die kerk se a/teïsme) en vanaf die grondvlak na bo. Om hierdie rede moet kerke versigtig wees om nie leemtes te wil hanteer deur dadelik dringend en eerste iets te doen nie, maar om eerder te kyk na dit wat reeds bestaan.

Die doel is dan om, gehoorsaam aan Joël se oproep, saam met millenniërs in hul alledaagse lewe en liturgieë te vergader, hetsy by die gimnasium, kroeg of op sosiale media. Dit is belangrik om te beklemtoon dat dit nie net die werk van die kerkleierskap is nie, maar, getrou aan missionaliteit, van elke lidmaat. Dit is ook belangrik om nie hierdie byeenkomste en verhoudings te reduseer tot hulle funksionaliteit nie. Om by millenniërs te wees en met hul in ’n verhouding te staan, is die einddoel. Wat volg, kom eenvoudig hieruit voort. Opregtheid is vir millenniërs van groot waarde en enige bymotiewe sal vinnig opgelet word en dan verhoudings belemmer.

In hierdie lewe en liturgie saam met millenniërs word die geleentheid geskep om God as en in die Ander te ontmoet (anateïsme). Wanneer die kerk wel deel geword het van die mense in hul binnegroepe, het die kerk die geleentheid om die heilige in die alledaagse saam met ander raak te sien. Hier word daar met onderskeiding omgegaan om te sien waar God betrokke is en waar God in die vreemde(ling) teenwoordig is. Dit is om te vra na wat buitengewoon is in die gewone handelinge en ruimtes. Dit is byvoorbeeld om op te let na die gemeenskap wat binne ’n nuwe huis vorm aanneem of om raak te sien hoe iemand se werk ’n verskil maak. 

Die eerste stap van missionaliteit is om te onderskei waar God aan die werk is. Die tweede stap is om by God aan te sluit. Daarom is die klem weer op aansluit, maar hierdie keer word daar by die Gees aangesluit. God se teenwoordigheid in die samekoms met millenniërs word (h)erken. Die gevolg is dat daar gekyk word na maniere waarop daar aan hierdie teenwoordigheid en werk van God deelgeneem kan word.

Dit is eers dan dat kerke, vanuit verhoudings en deelname, vanuit hul deelname aan millenniërs se geestelike binnegroepe, normatief kan begin optree om rituele te verdig of te transformeer. Dit kan gedoen word aan die hand van stories of handelinge wat die heilige elemente uitlig of die afbrekende elemente uitdaag. Die kerk word gevra om nie al die antwoorde te gee nie, maar om vanuit ’n plek van omgee, eerder as oordeel, rituele uit te daag en aan alternatiewe rituele te help bou. Dit is hierdeur dat die kerk, vanuit ’n beweging van ana-ekklesia en anateïsme deur analeitourgia kan deel word van ’n geloofsgemeenskap wat in mense se alledaagse lewens en in mense se kontekste en in die Heilige Gees gegrond is.

 

6. Gevolgtrekking

Die vraagstuk rakende millenniërs se afwesigheid in die kerkbanke nooi die kerk om nuut te dink oor die God wat Christene aanbid (anateïsme), oor wie die kerk self is (ana-ekklesia) en oor die handelinge waarin God en die kerk mekaar ontmoet (analeitourgia). Dit is ’n missionale roeping wat die kerk nooi om altyd te reformeer (semper reformata) sodat die kerk kerk kan wees saam met diegene wat God anderkant die (tradisionele) kerk soek.

Die bestudering van kerklos millenniër-Christene se gebede herinner die kerk daaraan dat kerkloos en Godloos nie sinonieme is nie. Baie kerklos millenniër-Christene se gebede getuig van ’n lewegewende verhouding met ’n God wat versorgend en teenwoordig is. Tog word daar ook gesien dat daar ’n behoefte is aan ’n reël van ongeloof, ’n lex non credendi, wat ruimte maak om God vanuit ’n plek van onkunde te ontmoet. Dit is eers wanneer mense hul greep op hul Godsbegrip, sowel as hul begrip van kerkwees, verander dat hulle die kreatiewe ruimte kan betree waar rituele opnuut gebruik kan word om God saam met millenniërs te aanbid.

Deur bestaande rituele aan die verliese en vreugdes van millenniërs te koppel, kan daar by bestaande rituele aangesluit word en saam gekyk word hoe God in die vreemde(ling) ontmoet kan word. Wanneer die werking van God onderskei is, kan daar by die Gees aangesluit word en kan die rituele van kerklos millenniër-Christene verdig en uitgedaag word om saam ’n gegronde geloofsgemeenskap te vorm.

 

Bibliografie 

Algemene Sinode. 2013. Raamwerkdokument oor die missionale aard en roeping van die NG Kerk. http://www.ngkerkas.co.za/index.php/dokumente/standpunte/besluite-en-studiestukke-van-die-algemene-sinode (10 Julie geraadpleeg).

Ammerman, N.T. 2014. Sacred stories, spiritual tribes: Finding religions in everyday life [Kindle-uitgawe]. New York: Oxford University Press.

Ammerman, N.T. (red.). 2007. Everyday religion: observing modern religious lives [Kindle-uitgawe]. New York: Oxford University Press.

Arnett, J.J. 2010. Oh. Grow up! Generational grumbling and the new life stage of emerging adulthood – commentary on Trzesniewski & Donnellan. Perspectives on Psychological Science, 5(1):89–92. http://jeffreyarnett.com/Arnett%20new%20website/Articles/ohgrowuppps2010.pdf (17 Julie 2019 geraadpleeg).

—. 2019. Emerging adulthood. In Biswas-Diener en Diener (reds.) 2019.

Barnard, M., J. Cilliers, en C. Wepener. 2014. Worship in the network culture: Liturgical, ritual studies. Fields and methods, concepts and metaphors. Leuven: Uitgeverij Peeters.

Birks, M. en J. Mills. 2011. Grounded theory: A practical guide. Londen: Sage.

Biswas-Diener, R. en E. Diener (reds.). 2019. Noba textbook series: Psychology. Champaign: DEF Publishers. https://nobaproject.com/modules/emerging-adulthood (17 Julie 2019 geraadpleeg).

Bosch, D.J. 2011. Transforming mission: Paradigm shifts in theology of mission. 20ste- herdenking-uitgawe. New York: Orbis books.

Brunsdon, A.R. en G.A. Lotter. 2011. Outo-etnografie as selfhulp vir predikante met bedieningsmoegheid: Verkennende opmerkings. Verbum et Ecclesia, 32(1). https://doi.org/10.4102/ve.v32i1.465 (7 Julie 2017 geraadpleeg).

Bryant, A. en K. Charmaz (reds.). 2007. The Sage handbook of grounded theory. Londen: Sage. 

Davidman, L. 2007. The new voluntarism and the case of unsynagogued Jews. In Ammerman (red.) 2007.

Davie, G. 2007. Vicarious religion: a methodological challenge. In Ammerman (red.) 2007.

De Clerck, P. 1994. “Lex orandi. lex credendi”. The original sense and historical avatars of an equivocal adage. Vert. T.M. Winger. Studia Liturgia, 24(2):178–200.

Dicey, L. 2016. South African millennials different from US millennials. Financial Times. https://www.businesslive.co.za/redzone/news-insights/2016-01-13-south-african-millennials-different-from-us-millennials (18 Junie 2019 geraadpleeg). 

Dimock, M. 2019. Defining generations: where millennials end and Generation Z begins. Pew Research Center. 17 Januarie. https://www.pewresearch.org/fact-tank/2019/01/17/where-millennials-end-and-generation-z-begins (21 Januarie 2019 geraadpleeg).

Drescher, E. 2016. Choosing our religion: The spiritual lives of America’s nones [Kindle-uitgawe]. New York: Oxford University Press.

Elizabeth, M. 2016. Lex orandi est lex credendi? The God of Anglican liturgy. New Blackfriars, 97(1067):52–73. 

Flynn, D.S. 2015. Aanbidding, sport en sosiale kohesie: ’n Ruimtelik-liturgiese perspektief. PhD-proefskrif. Universiteit van Pretoria.

Fresh Expressions. What is a fresh expression? http://freshexpressions.org.uk/about/what-is-a-fresh-expression (27 Julie 2019 geraadpleeg). 

Ganzevoort, R.R. en J. Roeland. 2014. Lived religion: the praxis of Practical Theology. International Journal of Practical Theology, 18(1):91–101.

Geldhof, J. 2010. Liturgy as theological norm getting acquainted with liturgical theology. Neue Zeitschrift für Systematische Theologie und Religionsphilosophie, 52(2):155–76.

Gräb, W. 2012. Practical theology as a religious and cultural hermeneutics of Christian practice. International Journal of Practical Theology, 16(1):79–92.

Greyling, A. 2018. Belydenisaflegging in die NG Kerk: ’n Ritueel-liturgiese ondersoek. MTh-verhandeling. Universiteit van Pretoria.

Hamman, J.J. 2019. The millennial narrative: Sharing a good life with the next generation [Kindle-uitgawe]. Nashville: Abingdon Press.

Heid, M. 2018. There’s worrying new research about kids’ screen time and their mental health. Time. 29 Oktober. https://time.com/5437607/smartphones-teens-mental-health (21 Julie 2019 geraadpleeg).

Howe, N. 2019. Millennials and the loneliness epidemic. Forbes, 3 Mei. https://www.forbes.com/sites/neilhowe/2019/05/03/millennials-and-the-loneliness-epidemic/#27a76f007676 (13 Julie 2019 geraadpleeg).

Kangwa, J. 2017. Lex orandi, lex credendi: Eco-theological perspectives on Christian worship in Africa. The Expository Times, 128(10):479–90.

Kearney, R. 2010. Anatheism: Returning to God after God [Kindle-uitgawe]. New York: Columbia University Press.

Keum, J. (red.). 2013. Together towards life. World Council of Churches Publications. https://www.oikoumene.org/en/resources/publications/TogethertowardsLife_MissionandEvangelism.pdf (5 April 2019 geraadpleeg).

Kinnaman, D. 2011. You lost me: Why young Christians are leaving church … and rethinking faith [Kindle-uitgawe]. Grand Rapids: Baker Books. 

Klomp, M. en M. Barnard. 2018. Dagelijkse kost: Het verband tussen keukentafel en avondmaalstafel in de hedendaagse cultuur. In Klomp, Smit en Speckmann (reds.) 2018. 

Klomp, M., P.B. Smit en I. Speckmann (reds.). 2018. Rond de tafel: Maaltijd viering in liturgische contexten. Heeswijk: Berne Media.

MacDonald, S. en N. Hedlam. 2011. Research methods handbook: Introductory guide to research methods for social research, Centre for Local Economic Strategies. http://www.cles.org.uk/wp-content/uploads/2011/01/Research-Methods-Handbook.pdf (12 Julie 2019 geraadpleeg).

Marsh LLC. 2019. Political risk map 2019: Rising geopolitical tensions. https://www.marsh.com/us/campaigns/political-risk-map-2019.html (15 Julie 2019 geraadpleeg).

Martine, G. en J.E.D. Alves. 2015. Economy, society and environment in the 21st century. Revista Brasileira de Estudos de População, 32(3):433–59. http://www.scielo.br/pdf/rbepop/v32n3/en_0102-3098-rbepop-S0102-3098201500000027P.pdf (2 Desember 2019 geraadpleeg). 

McGrath, A.E. 2011. Christian theology: An introduction. 5de uitgawe. Londen: Wiley-Blackwell.

Meylahn, J.A. 2012. Church emerging from the cracks: A church in, but not of the world. Bloemfontein: SunPress.

Miller-McLemore, B.J. 2012. Christian theology in practice: Discovering a discipline. Grand Rapids: Eerdmans.

Miller-McLemore. B.J. (red.). 2012. The Wiley-Blackwell companion to practical theology. West Sussex: Blackwell Publishing. 

Mitchell, K.R. en H. Anderson. 1983. All our losses, all our griefs: Resources for pastoral care. Philadelphia: Westminster Press.

Müller, J. 2011. Om te mag twyfel: ’n Gelowige se reis. Wellington: Bybel-Media.

Nederduitse Gereformeerde Kerk. 2010. Handleiding vir die erediens. Wellington: Bybel-Media.

Nel, M. en Z. van der Westhuizen (reds.). 2015. Skokkend positief: Insigte vanuit nuwe navorsing oor aktiewe Afrikaanse kerkjeug. Wellington: Bybelkor.

Ngozo, T. en S. Mtantato. 2018. Basic education is failing the economy. Mail & Guardian. 23 November. https://mg.co.za/article/2018-11-23-00-basic-education-is-failing-the-economy (17 Julie 2019 geraadpleeg). 

Nobel, J. 2018. Does social media make you lonely? Harvard Health Publishing. 21 Desember. https://www.health.harvard.edu/blog/is-a-steady-diet-of-social-media-unhealthy-2018122115600 (19 Julie 2019 geraadpleeg).

Osmer, R.R. 2008. Practical theology: An introduction [Kindle-uitgawe]. Grand Rapids: Eerdmans.

—. 2011. Practical theology: A current international perspective. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 67(2). http://dx.doi.org/10.4102/hts.v67i2.1058 (11 Maart 2019 geraadpleeg).

Pieterse, H.J.C. 2010. Grounded theory approach in sermon analysis of sermons on poverty and directed at the poor as listeners. Acta Theologica, 30(2):113–29. http://www.scielo.org.za/pdf/at/v30n2/v30n2a09.pdf (6 Junie 2016 geraadpleeg).

—. 2017. Scientific-theoretical research approach to practical theology in South Africa: A contemporary overview. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 73(4). https://doi.org/10.4102/hts.v73i4.4483 (9 Maart 2019 geraadpleeg).

Reader, J. 2008. Reconstructing practical theology: The impact of globalization. Londen: Ashgate Publishing.

Rollins, P. 2006. How (not) to speak of God. Brewster: Paraclete Press.

SAHRC. 2017. Research brief on race and equality in South Africa 2013–2017. https://www.sahrc.org.za/home/21/files/RESEARCH%20BRIEF%20ON%20RACE%20AND%20EQUALITY%20IN%20SOUTH%20AFRICA%202013%20TO%202017.pdf (24 Mei 2019 geraadpleeg). 

Schippers, I. 2015. Sacred places in the suburbs: casual sacrality in the Dutch VINEX-district Leidsche Rijn. PhD-proefskrif. Tilburg School of Humanities and Digital Sciences.

Smit, D.J. 2004. Lex orandi. Lex credendi. Lex (con)vivendi? Oriënterende inleiding tot liturgie en etiek. Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 45(3–4):887–907.

—. 2009. Ontdek die eie aard van die gereformeerde erediens. In Wepener en Van der Merwe (reds.) 2009.

Smith, C., K. Christoffersen, H. Davidson en P.S. Herzog. 2011. Lost in transition: The dark side of emerging adulthood. New York: Oxford University Press.

Smith, J.K.A. 2009. Desiring the kingdom: Worship, worldview and cultural formation. Cultural Liturgies. Vol. 1. Grand Rapids: Baker Academic.

StatsSA. 2018a. An exploration of nuptiality statistics and implied measures in South Africa: Community survey 2016. http://www.statssa.gov.za/publications/03-01-25/03-01-252016.pdf (7 Julie 2019 geraadpleeg).

—. 2018b. Four out of ten marriages end in divorce before their 10th anniversary. Data Stories. 4 Junie. http://www.statssa.gov.za/?p=11192 (7 Julie 2019 geraadpleeg).

—. 2018c. Youth unemployment still high in Q1: 2018. Data stories. 15 Mei 2018. http://www.statssa.gov.za/?p=11129 (7 Julie 2019 geraadpleeg).

Steyn, M. 2016. A grounded theory analysis of sermons on racism. MDiv-verhandeling. Universiteit van Pretoria.

—. 2018. Ken ons ons jong volwassenes? Die Kerkbode, 5 Maart. https://kerkbode.christians.co.za/2018/03/05/ken-ons-ons-jong-volwassenes (5 Februarie 2019 geraadpleeg). 

Urquhart, C. 2013. Grounded theory for qualitative research: a practical guide. Londen: Sage.

Van der Westhuizen, Z. 2015. Voorwoord. In Nel en Van der Westhuizen (reds.) 2015.

Ward, P. 2017. Introducing practical theology: Mission, ministry, and the life of the church. Grand Rapids: Baker Academic.

Warren, T.H. 2016. Liturgy of the ordinary: Sacred practices in everyday life. Downers Grove: InterVarsity Press.

Wasserman, H. 2019. SA’s economy is shrinking at an alarming rate – and only oranges and interest rates are offering hope. Business Insider South Africa. 4 Junie. https://www.businessinsider.co.za/economic-growth-first-quarter-of-2019-2019-6 (7 Junie 2019 geraadpleeg). 

Wepener, C.J. 2008. Liturgy on the edge of tradition. PTSA, 23(2):313–35.

Wepener, C.J. (red.). 2009. Ontdek die draaipunte in die geskiedenis van die liturgie. In Wepener en Van der Merwe (reds.) 2009.

Wepener, C.J. en A. Greyling. (reds.). 2019. Ongekaart. ’n Bronboek met roetemerkers vir oorgange. Aanneming, skoolverwisseling, egskeiding, geslagsverandering, selfdegeslag huwelike, aftrede, versoening, rou op die internet en meer. Wellington: Bybel-Media.

Wepener, C.J. en J. van der Merwe (reds.). 2009. Ontdekkings in die erediens. Wellington: Lux Verbi.BM. Yilmaz, K. 2013. Comparison of quantitative and qualitative research traditions: Epistemological, theoretical, and methodological differences. European Journal of Education, 48(20):311–25.

 

Eindnotas

1 Sien David Kinnaman en die Barna Group se video op https://www.youtube.com/watch?v=jitHsBPGtUY.

2 Pew Research Center, as gesaghebbende bron vir navorsing oor millenniërs, se afbakening van millenniërs as persone wat tussen 1981 en 1996 gebore is, word verkies (Dimock 2019). Sien egter ook byvoorbeeld Hamman (2019, loc. 224) en Kinnaman (2011:21) se afbakeninge.

3 Kerklos is ’n liturgies-gedefinieerde term wat betrekking het op die mate waartoe ’n persoon binne ’n kerkverband amptelik ritueel-liturgies aktief is, en beskryf persone wat oor die afgelope ses maande nie ’n erediens by enige kerk bygewoon het nie. Die volgende bywoning word nie gereken nie: (i) spesiale geleenthede; (ii) groot Christelike feesdae; (iii) bywoning ter wille van iemand anders; en (iv) bywoning om inskakeling te oorweeg, sonder dat die erediens weer bygewoon word. Die onderliggende aanname is dat persone wat slegs hierdie eredienste bywoon, steeds nie die kerk as aanbiddingsruimte kies nie en dus as kerklos beskryf kan word. Die definisie soos uiteengesit is weliswaar baie tradisioneel en ekklesiologies-gesentreerd. Aangesien die navorsing egter wil kyk na die erediens as aanbiddingsruimte, is daar besluit om spesifiek na die keuse vir (of teen) hierdie aanbiddingsruimte te kyk.

4 Etiese klaring vir die navorsing is vooraf van die Navorsingsetiekkomitee van Fakulteit van Teologie en Religie van die Universiteit van Pretoria verkry. Medenavorsers het ook ingeligte toestemming gegee.

5 Die kodering is per hand gedoen. Die data is in kleiner dele opgebreek en gekodeer. Ter illustrasie van hierdie proses kan die volgende dankgebed dien: “Ek sê dankie dat dit goed gaan met ’n vriendin met wie dit swaar gegaan het.” Dit gee vier kodes wat onder vier kategorieë val: (i) dank; (ii) die goeie/sukses; (iii) vriende en familie; en (iv) mense wat swaarkry. ’n Kategorie word as sodanig gereken slegs mits die kategorie in minstens helfte van die medenavorsers se gebede teenwoordig was.

6 Sien Heid (2018), Howe (2019) en Nobel (2018) vir artikels wat die impak van tegnologie op verhoudings bespreek.

7 Sowat 44,4% van huwelike in Suid-Afrika eindig in die eerste 10 jaar in egskeiding (StatsSA 2018a).

– Millenniërs trou al hoe later of glad nie (StatsSA 2018b). Tog woon 8,3% van Suid-Afrikaners saam, waaronder die meerderheid ouderdom 25–39 is (StatsSA 2018a:11, 22). Die verlies aan verhoudings is dus nie te versmaai nie.

– Meer as een uit elke drie jong volwassenes (onder die ouderdom van 34) was werkloos in die eerste kwart van 2018 (StatsSA 2018c).

8 Fresh Expressions is ’n missionale beweging wat ruimtes van aanbidding skep in alternatiewe ruimtes waar mense reeds vergader (https://freshexpressions.org.uk).

9 Navorsing soos dié van Ammerman (2014), Flynn (2015) en Miller-McLemore (2012b) kyk na verskeie alledaagse aktiwiteite en ruimtes waar die skeiding tussen heilig en wêrelds vervaag en verdun.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Gebedspraktyke en geloofsoortuigings van kerklos millenniër-Christene: ’n Ritueel-liturgiese verkenning appeared first on LitNet.

Gehalteberiggewing in die buitekantoor van ’n Suid-Afrikaanse dagblad

$
0
0

Gehalteberiggewing in die buitekantoor van ’n Suid-Afrikaanse dagblad

Susan Cilliers en Thalyta Swanepoel, Skool vir Kommunikasiestudies: Joernalistiek, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)

LitNet Akademies Jaargang 17(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming 

Die digitale omwenteling het gelei tot die ontstaan van ’n kuberwêreld waarbinne veral mense in ryker lande toegang tot nuus op elke vasteland in die wêreld het. Sosiale-media-platforms soos Facebook en Twitter, asook interaktiewe nuuswebwerwe, maak dit nou vir Jan Publiek moontlik om ’n mening te lug én self nuus te genereer. Dalende sirkulasiesyfers by koerante lei tot kleiner nuuskantore waar ’n handjievol joernaliste dikwels nuus ál vinniger vir aanlyn nuuswebwerwe moet produseer, terwyl hulle terselfdertyd aan die verwagtinge van ’n toenemend meer betrokke lesers moet voldoen. In hierdie verkennende studie is gefokus op die uitdagings wat joernaliste in buitekantore in die gesig staar terwyl hulle ’n tegnologies veeleisende omgewing moet bestuur. Buitekantoorjoernaliste is ’n uitstekende onderwerp van navorsing hieroor, omdat hulle grootliks onafhanklik van die hoofkantoor werk en as’t ware hul eie nuusredakteurs is. Hul take is gevolglik uiters omvattend, omdat dit bykans elke aspek van nuusbestuur insluit – anders as in die geval van joernaliste in die hoofkantoor, waar die nuusredakteur hoofsaaklik verantwoordelik is vir die daaglikse nuusbestuur. Buitekantoorjoernaliste moet dus nie net oor nuusbestuursvaardighede beskik om gehalteberiggewing te verseker nie, maar ook uitnemend wees in die praktiese toepassing van joernalistieke take. In hierdie studie is gefokus op dié kombinasie van vaardighede en take. Dit is gedoen deur die bestuurseise en take van joernaliste in buitekantore te ontleed en uiteen te sit deur ’n stelsel-en-proses-gegronde benadering te volg, asook deur vraelyste en opvolgonderhoude. Die doelwit was om praktiese riglyne te identifiseer en te formuleer wat joernaliste in buitekantore kan help om hul kantore doeltreffend te bestuur sonder om gehalte in te boet. Dié riglyne word ook in hierdie artikel uiteengesit. Dit is ook nuttige werkswenke vir joernaliste in die algemeen, omdat dit so ’n wye veld van joernalistieke vaardighede en take dek.

Trefwoorde: bestuur; buitekantoor; dagblad; gehalte; joernalistiek; prosesse; stelselbenadering; Suid-Afrika

 

Abstract 

Quality reporting in the satellite office of a South African daily newspaper 

The digital revolution created a cyberworld in which especially people in more affluent countries on all continents have access to news. Through interactive news websites and social media platforms such as Facebook and Twitter the general public can now voice their opinions and generate news. Newspapers’ declining circulation figures have led to smaller newsrooms where a handful of journalists often, at greater speeds, have to produce news for online platforms while catering to the expectations of increasingly involved audiences and maintaining high-quality output.

This qualitative exploratory study focused on the challenges journalists in satellite offices of mainstream dailies in South Africa face while managing a technologically strenuous environment. Satellite journalists offer an excellent research opportunity because they mostly work independently from head office and often act as their own news editors. Their tasks are comprehensive, including as they do every aspect of news management, unlike the situation at head office, where the news editor is mainly responsible for managing the daily news budget. Satellite journalists therefore do not only have to have news management skills to ensure quality reporting, but also have to be excellent in the practical application of journalistic tasks. 

The research question relevant in this article was: How should satellite journalists manage their environments to ensure quality journalistic outputs?

To answer this question the researchers aimed to determine which processes the satellite journalists of selected South African daily newspapers should implement to manage the quality of news output within the daily challenges in their organisations as well as the broader environment in which they work. The study further endeavoured to identify patterns in the subjective work methods of individual journalists to formulate practical guidelines for the process-based management of a satellite office that could promote effective and efficient management without compromising quality. Note that the aim was not to evaluate the quality of journalistic output. The researchers worked on the assumption that quality should be an outcome if certain processes and guidelines are followed.

The combination of skills and tasks was investigated within the framework of systems theory by analysing the management challenges and functional tasks of journalists in satellite offices following a systems-and-process-based approach. A systems-and-process-based approach is particularly suitable to investigate media management. The approach recognises the relationship between the news organisation and the external environments, and identifies and investigates all the components that influence one another in the process of generating the outcome (i.e. quality news). The systems theory was therefore also relevant in this study about the processes in a satellite office. These offices function in the bigger system of their respective news organisations, as well as in the bigger societal context in which the newspapers and their websites operate. Diverse aspects linked to the daily working methods of satellite journalists within the context of the systems theory were identified by means of an intensive literature study. Further investigation involved using questionnaires and follow-up telephonic/e-mail interviews with participants to identify the relevant processes followed in managing a satellite office. 

Two semi-structured, qualitative questionnaires with a total of 84 questions were compiled to gather data about the complex working methods of satellite journalists. The aim was to test/verify the theory about the elements and components necessary to ensure quality reporting and to identify similarities and differences between theory and practice. The researchers first identified five core tasks from the general literature, the key performance areas applicable to satellite journalists at the media conglomerate Media24, as well as preliminary interviews with selected participants. These core tasks (used as concepts and constructs in the data analysis) are self-management, creating a contact list, news generation, writing news, and sustained communication with the news editor. Guided by the theoretical assumption that processes are conducted within a system to reach specific goals, and that the processes consist of inputs transformed into specific outputs, the researchers subsequently identified the processes and sub-processes of the core tasks. The inputs were identified in the literature study and include resources, the individual and the environment. The questionnaire thus included questions about determining and reaching goals, planning, productivity, perspective and personality. Concerning the work environment, questions concentrated on demographic information, the economy, politics and the environment. The data was analysed using the concepts and constructs (tasks) identified and formulated. The researchers verified the theory in general, but added several processes/principles that the satellite journalists implement in practice.

In general, the researchers found that participants seem to pay attention to all aspects necessary for efficient management, but often fail to execute these effectively.

Under self-management, the researchers explored the processes satellite journalists should follow to deliver quality outputs (i.e. the news product). Aspects such as prioritising, planning, productivity, perspective and personality were investigated. The findings show that personal and professional goals are often intertwined, which could lead to burnout. Participants do reach news deadlines, but lack time-management capabilities and have trouble prioritising. Planning, which is part of the transformation phase in the self-management process, involves the amount of time spent on planning, method of prioritising (according to news values); allotting time to tasks. Participants tend to write about news where information is more readily available, e.g. on social media platforms. Most time is spent on news gathering (as a core task of a satellite journalist). Deficiencies identified include a lack of consultation with the news editor to help with planning and prioritising, and little pre-planning. This increases work stress and the ability to manage time effectively.

The management of production aspects forms part of the transformation phase in the process of self-management. Responses show that interruptions frustrate participants, but in general they are able to manage this through reprioritising, postponing or delegating. Participants are able to distinguish between relevant methods of communication and apply these effectively. Deficiencies include effective office administration due to time and work pressures. Participants feel overwhelmed due to the volume of work resulting from the often large geographic areas they are expected to cover. They do know what standard of work is expected and when they do or don’t reach the standards, but most were vague in their responses about how to improve. Findings show that participants can control planning and prioritising, and the extent to which they are informed about what is happening in the environment. They rely on previous experience, but seldom ask for advice from the news editor. Although participants are assertive to a lesser or greater extent, they struggle with saying no, and look for validation from others.

Where compiling a contact list is concerned, all participants recognise the importance of this core task, and have extensive contact lists and keep these up to date. Most use cell phones and computers to store the information. The researchers found that participants rely heavily on traditional official news sources, but supplement by, e.g., using social media. News gathering takes place reactively, meaning that participants rely on what other media report on, and search for stories on social media platforms. Less than half the participants find unique stories by observing what is happening in their environment and paying attention to what people are talking about. Few also attend functions with the aim of finding unique stories. This indicates that exclusivity has become less important when it comes to news generation.

News gathering starts where the process of news selection ends. Other inputs necessary for news gathering include physical resources such as a vehicle, computer and camera, and video equipment. The researchers found that participants have adequate equipment, and still use traditional methods to gather news, supplemented by new methods such as social media. All participants use technology, especially to gather visual material for stories. When writing stories, participants use different methods to structure information, and apply various story formats to the story type and platform. However, time constraints due to the 24/7 news cycle influence the extent to which stories are rewritten and polished, which has an influence on the quality of news output.

Communication, especially with line managers, was identified as a problem area. Sustained communication with the news editor helps journalists to set goals, plan and re-evaluate the news process. Questions related to the frequency and nature of communication. Most participants indicated that they talk to news editors about the news budget, prioritising and developments regarding stories. Most make independent decisions about visual elements and which stories will be offered for which platforms. Stumbling blocks include a lack of time to discuss content and story angles, which could also influence quality.

Another concern is a lack of solid knowledge/understanding regarding the geographical environment within which satellite journalists function. This includes demographic, political, economic and social knowledge and understanding. Most participants are well-informed about race and language in their communities, have reasonable knowledge of economic aspects such as income level and unemployment, but only superficial knowledge of aspects such as age and access to services. None of the participants had constructed an environmental profile of their regions and wider audience. They do, however, agree with the literature that audience needs and expectations have to be taken into account when taking news decisions. However, scant knowledge of the environment will have a negative influence on journalists’ ability to meet the needs and expectations effectively.

Keywords: audience needs and expectations; news gathering; news management; news writing; process approach; quality journalism; satellite journalist; self-management; systems theory

 

1. Inleiding

Die joernalistieke landskap het die laaste dekades ’n omwenteling beleef soos nog nooit tevore nie, hoofsaaklik weens onbeperkte toegang tot inligting danksy die internet, en gevolglik aanlyn nuus (Brants 2013:18–20; Quinn 2002:11). Dit het sowel die mediamark as joernaliste se benadering tot nuus drasties verander.

Joernaliste ervaar tydsdruk soos nooit tevore nie en moet nuus nou binne minute skep soos dit gebeur, terwyl hulle op verskillende platforms vaardig moet wees (Porlezza en Russ-Mohl 2013:45). Heinrich (2013:89–91) sê tereg die pas en skaal van verspreiding van beskikbare inligting is nou enorm binne ’n toenemend grenslose omgewing. Te midde van dié groeiende druk op joernaliste word redaksies ironies genoeg verder verklein weens ekonomiese faktore (Stovall 2005:131;122–3; Cole en Harcup 2010:11). Dít alles skep ook nuwe uitdagings wat gehaltejoernalistiek betref (Cole en Harcup 2010:11; Porlezza en Russ-Mohl 2013:45; McNair 2013:78; Witschge 2013:162; Schoenbach en Van der Wuff 2014a:435–6). 

Akkuraatheidsnavorsing oor meer as 70 jaar in die VSA wys dat feite- en taalfoute toeneem (Porlezza en Russ-Mohl 2013:45). Die tradisionele filters om foute betyds te identifiseer, bestaan dikwels nie wanneer nuusinhoud vir die internet geskep word nie, omdat redigering aanlyn nie so ’n groot prioriteit blyk te wees nie. Trouens, Giddings (2017:6) sê die neiging om subredakteurs uit te faseer, blyk duidelik uit die aantal aanlyn artikels met wenke oor selfredigering vir joernaliste. Dít beklemtoon juis die belangrikheid van organisatoriese en professionele strukture om gehaltenuus te bly skep, ondanks ’n omgewing waarin elke Jan Rap en sy maat nuusverspreiders op veral sosiale platforms word. Hierdie sogenaamde burgerlike joernalistiek verhoog juis die behoefte aan opgeleide joernaliste om nuus wat uit alle platforms instroom, te kan beoordeel, verifieer en verpak (Stovall 2005:139; McNair 2013:77–81; Hanitzsch 2013:200).

Om ’n magdom inligting en nuus te kan bestuur, is dus ’n sleutelvaardigheid om uiteindelik ’n produk van goeie gehalte te kan lewer (Quinn 2002:1). Die kompeterende voordeel van koerante is juis hul vermoë om nuus te skep en te versprei op ’n manier wat, anders as in die geval van die internet, vertroue inboesem deur oor ’n tydperk ’n reputasie van integriteit en gehalte op te bou (Quinn 2002:18). Dié integriteit is ewe belangrik op digitale platforms, omdat dit waarskynlik toekomstige generasies se primêre, indien nie enigste nie, nuusbron sal wees.

Die vraag is gevolglik hoe nuuskantore bestuur behoort te word om gehalte-uitsette te bewerkstellig. Swanepoel (2012:19) beklemtoon die belangrikheid hiervan: Die begrip gehaltebestuur vind neerslag op bykans alle terreine van die korporatiewe wêreld. Daar word voorts dus eers stilgestaan by die ontwikkeling van gehaltebestuur in die bestuurswese in die algemeen, voordat dit binne die konteks van joernalistieke bestuur bespreek word.

 

2. Bestuur en nuusbestuur

Cronjé, Du Toit en Motlatla (reds.) (2000:24) beskryf die bestuurswese as die wetenskaplike studie van hoe ’n onderneming of ’n organisasie die hoogste moontlike opbrengs (uitset) kan verkry deur die laagste moontlike besteding van produksiemiddele (insette). Hierdie skrywers wys in ooreenstemming met die stelselteorie (kyk 4.1 verder af) daarop dat alle verskynsels binne of buite die onderneming ’n invloed op die bogenoemde verlaging van koste of die verhoging van wins kan uitoefen, en dat die bestuurswese hom juis met dié vraagstukke besig hou (2000:32). Bestuur is dus die proses waardeur mense-, geld-, fisiese en inligtingshulpbronne gebruik word om ’n organisasie se doelwitte te bereik (Du Toit, Mol, Van Reenen en Motlatla soos aangehaal deur Swanepoel 2012:50; Cronjé e.a. 2000:104). Die bestuurswese ondersoek gevolglik praktyke wat help om ’n organisasie se doelwitte ten beste te verwesenlik – dis ook die fokus van dié studie.

Cronjé e.a. (2000:32) verduidelik dat bestuur sentraal staan tot dié praktyke of aktiwiteite omdat juis die bestuursproses dit op dreef kry en doelgerigte optrede moontlik maak. Die kerndoel van bestuur is dus om gehalte en sukses te verseker. Dis ’n inherente, eeue oue sakebeginsel. Evans en Lindsay (2014:10–7) wys in hul oorsig oor die geskiedenis van gehaltebestuur daarop dat gehalte in die produksieproses deur die eeue heen belangrik was.

Daar is bewyse gevind dat Egiptiese muurskilderye al omstreeks 1450 v.C. gemeet en geïnspekteer is. Stene waarmee piramides gebou is, is so presies gesny dat dit selfs vandag nog onmoontlik is om ’n mes se lem tussen die blokke in te druk. Dis duidelik: Die Egiptenare se sukses was te danke aan goeie ontwerp, die deurlopende gebruik van goedontwikkelde boumetodes en prosedures, en presiese meetinstrumente (Evans en Lindsay 2014:10–7). Statistiese gehaltebeheermetodes is vroeg in die 20ste eeu ontwikkel. In die 1980’s het ’n groeiende bewustheid van gehalte onder verbruikers begin ontstaan. Gehaltestandaarde het begin uitbrei na die dienssektor soos skole en hospitale. Uit die groeiende bewustheid van die belang van gehaltestandaarde is gehaltebestuursmodelle ontwikkel. 

Volgens Cronjé e.a. (2000:118) en Garvin (soos aangehaal deur Swanepoel 2012:20) is die Total Quality Management-model, oftewel allesomvattende gehaltebestuursmodel (AGB) een van talle eietydse benaderings tot bestuur wat in die 1980’s en 1990’s ontstaan het in die soeke na redes hoekom Duitse en Japannese bestuurders soveel sukses in die VSA behaal het. Die bevinding was dat hulle behep is met gehalte op alle vlakke van die organisatoriese aktiwiteite.

AGB het hieruit ontwikkel en behels ’n verskeidenheid benaderings en prosesse om gehaltedienste en -produkte binne ’n organisasie te lewer (Swanepoel 2012:20–1). Dis in wese ’n mensgefokuste bestuurstelsel wat gemik is op die voortdurende toename in verbruikerstevredenheid waarby alle werknemers op verskillende vlakke betrek word (Evans en Lindsay 2014:17). Hier word, tipies in die tradisie van die stelselteorie, van die veronderstelling uitgegaan dat gehalteprodukte en -dienste gelewer kan word net indien die hele organisasie op elke vlak van die werksmag saamwerk om dié doelwit te bereik (Swanepoel 2012:21, 56). 

Volgens Swanepoel (2012) is daar baie literatuur oor gehaltebestuur in veral die korporatiewe wêreld, maar weinig oor spesifiek die mediabedryf, en is studies oor gehaltebestuur in die media gefragmenteerd. Dít ondanks die feit dat bestuur in die mediabedryf al hoe belangriker word in ’n toenemend mededingende omgewing en ’n gebrek aan doeltreffende mediabestuur een van die faktore is wat gehalte in joernalistiek beïnvloed (Swanepoel 2012:iii).

Swanepoel (2012:21) meen ’n benadering soos AGB kan baie nuttig vir gemeenskapskoerante wees deurdat dit veral vir minder ervare nuuskantoorbestuurders duidelike en logiese prosesgegronde riglyne kan gee om in hul daaglikse aktiwiteite in werking te stel. In ’n buitekantooropset kan dit ook baie nuttig wees, omdat joernaliste in sulke kantore grootliks op hulself aangewese is.

Hier sal dus binne die konteks van die AGB-model gekyk word na spesifiek al die prosesse wat sulke joernaliste volg om gehalte-uitsette te verseker. AGB veronderstel dat elke werknemer moet streef na gehalte op elke vlak van aktiwiteit en proses wat gevolg word. Dit beteken dat buitekantoorjoernaliste van die begin van die nuusgenereringsproses, met ander woorde reeds wanneer insette vir latere verwerking verkry word, moet sorg dat dié insette van ’n goeie gehalte is.

 

3. Wat is gehalte?

Met die koms van die tegnologiese era in die 20ste eeu het gehalte toenemend ’n belangrike kwessie geword, terwyl al hoe meer mense toegang tot produkte en dienste begin kry het wat voorheen net die rykes beskore was (Swanepoel 2012:34). Die dilemma met die begrip gehalte is egter dat dit uiters verwarrend kan wees, deels omdat dit ’n subjektiewe oordeel op grond van baie verskillende kriteria kan wees (Evans en Lindsay 2014:6). Konsultante en professionele sakelui slaag gevolglik selde daarin om ’n universele omskrywing van gehalte te gee, terwyl die betekenis van die begrip voortdurend verander soos wat die gehalteprofessie groei (Evans en Lindsay 2014:6). 

Binne die konteks van joernalistiek is gehalte ’n hoogs aanvegbare onderwerp, want daar is uiteenlopende standpunte oor hoe gehalte beoordeel behoort te word (Anderson, Ogola en Williams (reds.) 2014:9). Ook Swanepoel (2012:34) wys daarop dat die begrip moeilik is om te definieer. Daar is egter in die breë konsensus dat gehalte op uitnemendheid dui. Die kriteria vir uitnemendheid hang egter af van die perspektief of benadering waaruit dit beskryf word (Swanepoel 2012:34). Verskeie benaderings word in die literatuur beskryf (Garvin in Swanepoel 2012:35–7; Evans en Lindsay 2014:6–9).

Dié benaderings is konteksgebonde: Gehalte oftewel uitnemendheid word dus aan die hand van sekere kriteria bepaal wat binne ’n spesifieke konteks geld (Swanepoel 2012:19, 49). ’n Definisie van gehalte behoort gevolglik gekoppel te wees aan sekere vereistes en eienskappe van gehalte binne daardie konteks.

Twee benaderings wat tersaaklik is vir hierdie studie binne die konteks van die buitekantoor as stelsel, is geïdentifiseer uit Swanepoel (2012:35–7) se opsomming van Garvin (1988:40–6) se vyf benaderings tot gehalte, asook uit Evans en Lindsay (2014:6–9) se ses benaderings, wat grootliks met dié van Garvin (1988) ooreenstem. Hierdie benaderings is ’n vervaardigings- of tegniese benadering en ’n benadering gegrond op verbruik. 

3.1 Vervaardigingsgegronde/tegniese benadering tot gehalte

Hier gaan dit oor interne organisatoriese prosesse. Gehalte word bepaal deur die mate waartoe aan sekere vereistes voldoen word. ’n Diens of produk moet dus konsekwent van dieselfde gehalte wees, en spesifieke standaarde of spesifikasies vir produkte of dienste help om dit te bereik. Dit verskaf ook ’n ondubbelsinnige meetinstrument vir gehalte. By koerante verskaf dit riglyne waaraan tydens die produksieproses voldoen moet word, byvoorbeeld wanneer die nuus ingesamel en geskryf word, asook die redigering, uitleg, ontwerp en verspreiding daarvan. 

3.2 Verbruikersgegronde benadering

Hier is die riglyn die mate van tevredenheid wat die gebruiker met die produk het – in hoe ’n mate dit dus aan hul behoefte voldoen. Dis ’n persoonlike, subjektiewe oordeel, omdat mense se behoeftes verskil. Kennis van die teikenmark is hier die sleutel tot sukses. Hoewel gebruikers soms ontevrede met ’n produk kan wees om redes wat niks met die werklike gehalte van die produk te make het nie, bly dit belangrik om te weet wat die verbruiker se verwagtinge ten opsigte van ’n produk is. By ’n koerant help dit om inhoud te skep waarvan mense wil en moet kennis neem.

Die verbruikersgegronde benadering is gepas wanneer gehalte binne die konteks van dienslewering beoordeel word. Rosen, Karwan en Schribner (2003:3) maak die stelling dat diens ’n belangrike mededingende wapen geword het – by implikasie ondersteun hulle dus die verbruikersgegronde benadering tot gehalte, omdat diens dui op die mate van tevredenheid met die produk of diens wat die gebruiker daarvan ervaar. 

Hoewel nuusorganisasies meestal kommersiële entiteite is wat wins moet maak soos enige ander onderneming, staan joernaliste tog ook in ’n “diensberoep”, omdat een van hul kerntake is om inligting aan mense te verskaf sodat hulle sinvol aan ’n demokratiese samelewing kan deelneem (Kovach en Rosenstiel 2007:5). Tweissi, Suleiman en Al-Garallah (2015:61) maak die stelling dat die media iets tussen ’n produk en diens is: Dit lê tussen die verbintenis tot professionele etiek en om aan die verbruiker se verwagtinge te voldoen. Gehalte is per slot van rekening gemoeid met die voldoening aan bepaalde verwagtinge: Hoe meer die eienskappe van ’n produk of diens aan die verbruiker se verwagtinge voldoen, hoe beter die gehalte van die produk of diens (Tweissi e.a. 2015:61).

Dié verwagtinge is gekoppel aan die inherente eienskappe van ’n produk of diens. Die Praxiom Research Group Limited sê dié inherente karaktertrekke van ’n produk of diens is ’n sentrale vertrekpunt om gehalte te beoordeel (soos aangehaal deur Swanepoel 2012:49): 

The quality of something can be determined by comparing a set of inherent characteristics with a set of requirements. If those inherent characteristics meet all requirements, high or excellent quality is achieved. If those characteristics do not meet all the requirements, a low or poor level of quality is achieved. Quality is, therefore, a question of degree. As a result, the central quality question is: How well does this set of inherent characteristics comply with this set of requirements? In short, the quality of something depends on a set of inherent characteristics and a set of requirements and how well the former complies with the latter ... Quality is always relative to a set of requirements.

In die lig hiervan kan nou gevra word wat die definisie van gehalte binne die konteks van hierdie studie behoort te wees. Gesien in die lig van die belangrike rol wat leserstevredenheid volgens Evans en Lindsay (2014), Garvin (in Swanepoel 2012), Rosen e.a. (2003), Kovach en Rosenstiel (2007) en Tweissi e.a. (2015) dikwels in die beoordeling van gehalte speel, behoort dit ook in ag geneem te word met die opstel van ’n werksdefinisie vir gehalte in hierdie studie. 

Teen die agtergrond hier bo uiteengesit, kombineer die navorsers die vervaardigings- en verbruikers-/diensgegronde benaderings in die opstel van die volgende werksdefinisie:

Gehalteberiggewing in die konteks van ’n buitekantoor van ’n Suid-Afrikaanse dagblad is die mate waarin die joernalis daarin slaag om deur die toepassing van bepaalde prosesse berigte te lewer wat grootliks sowel aan die teikenmark (verbruikers) as aan die beroep se verwagtinge oor gehalte voldoen.

Met die digitale oorgang is die beproefde sakemodel om onder druk gehaltejoernalistiek te verskaf. Nuwe denke is dus nodig in ’n joernalistieke era waar die beroep toenemend deelnemend word (Abrahamson 2010). Om sin te kan maak uit nuus in die digitale era is veral belangrik vir die joernalis in ’n buitekantoor wat dikwels alleen verantwoordelik is vir nuusdekking in ’n groot gebied.

Die mikpunt van hierdie studie was om vanuit die teoretiese onderbou van die stelselteorie te kyk hoe buitekantoorjoernaliste die proses van nuusgenerering kan bestuur om gehalteberiggewing te bevorder. Riglyne is ook saamgestel vir doeltreffende nuusbestuur in die buitekantoor van ’n Suid-Afrikaanse dagblad. Die doel met die studie was nie om die gehalte van berigte te beoordeel nie. Die veronderstelling is dat gehalte ’n uitkoms behoort te wees indien bepaalde prosesse en riglyne gevolg word.

3.3 Gehalte in die media

Gehalte bly ’n sentrale vraagstuk in die joernalistiek en behoort op alle platforms gehandhaaf te word (sien Meyer 2010:223; Abrahamson 2010).

Die antwoord op die vraag wat gehalte werklik is, is egter dikwels subjektief en konteksgebonde. Uit literatuur oor die onderwerp blyk dit dat sekere kernelemente algemeen aanvaar word as noodsaaklik vir gehaltejoernalistiek. Nikunen (2014:869–72) beskryf dit as “kollektiewe kulturele kennis” – ’n soort beroepsideologie waar daar konsensus is oor die “ideale” joernalis, en ’n ritualistiese proses waar ’n versameling waardes en kodes oor ’n tydperk gevorm word. Kortweg is gehaltejoernalistiek die manier waarop joernaliste hul werk verstaan en waarde daaraan heg. Heelwat studies wys ook dat daar in die joernalistiek ’n gedeelde professionele ideologie en tipiese waardestelsels bestaan, al is daar op sommige vlakke variasie (sien Deuze 2005:442–6; Pihl-Thingvad 2015:393).

Volgens Kovach en Rosenstiel (2007:4–5) is in ’n reusestudie van 1997 tot 1999 in die VSA bevind dat daar sekere kernbeginsels in die joernalistiek is waaroor joernaliste saamstem én wat landsburgers na regte kan verwag. Uit dié navorsing het ook geblyk dat joernaliste hul werkswyses op byvoorbeeld verskillende platforms aanpas om dié beginsels en waardes te handhaaf. 

Die algemeen-aanvaarde eienskappe vir gehaltejoernalistiek kan soos in onderstaande hofies opgesom word (sien Scanlan 2000:6–12; Deuze 2005:447; Kovach en Rosenstiel 2007; Swanepoel 2012:1, 69, 88, 89–96,178; Ojetimi 2012; Anderson, Ogola en Williams 2014:21–3; Batsible 2014:37–41; Nikunen 2014:869–72; Schweiger en Urban 2014:823; Tweissi e.a. 2015:55–78; Manda 2015:156–7; Pihl-Thingvad 2015:394–411; Press Council 2016): 

3.3.1 Akkuraatheid

Akkuraatheid vereis dat daar geen doelbewuste of nalatige afwyking van feite is nie, hetsy deur middel van die skeeftrekking, oordrywing, wanvoorstelling, belangrike uitlatings of die onvoldoende opsomming daarvan. Feite moet geverifieer word. Onakkuraathede veroorsaak dat die lesers vertroue in ’n nuusproduk verloor. Goeie bronne en verifiëring is nodig om akkuraatheid te bewerkstellig.

3.3.2 Tydigheid, nuutheid

Onmiddellikheid, aktualiteit en spoed is inherente eienskappe van nuus. 

3.3.3 Verstaanbaarheid

’n Logiese struktuur en duidelikheid is nodig om nuuskopie verstaanbaar te maak.

3.3.4 Objektiwiteit 

Soos akkuraatheid word ook objektiwiteit allerweë as ’n kernelement van gehalte in joernalistiek beskou. Dis ’n ingewikkelde begrip wat elemente insluit soos emosionele neutraliteit, dat persoonlike oortuigings beriggewing nie behoort te beïnvloed nie, onpartydigheid, verifiëring en neutraliteit. Hierdie eienskappe dra by tot geloofwaardigheid. Dit beteken ook dat wanneer ’n berig nie op feite nie, maar op ’n mening of gerug gegrond is, dit duidelik so aangedui moet word. 

3.3.5 Geloofwaardigheid

Hier gaan dit oor die inboeseming van vertroue. Geloofwaardigheid word gekenmerk deur ’n strewe na die waarheid, vermyding van onnodige skade (in die sin dat niemand onregverdiglik benadeel word nie, byvoorbeeld weens laster), die weerspieëling van ’n verskeidenheid stemme in die dekking van nuusgebeure, spesiale versigtigheid waar dit gaan oor kinders en kwesbare groepe, en onafhanklikheid.

3.3.6 Billikheid

Nuus moet in konteks en ewewigtig aangebied word. Geen belangrike feite moet uitgelaat word nie. Die onderwerp van kritiese beriggewing moet genader word vir kommentaar vóór publikasie. Kommentaar oor enige gebeure van openbare belang is toelaatbaar, mits dit duidelik as kommentaar aangebied word, billik en op feite gegrond is. Kommentaar moet vry wees van kwaadwilligheid of oneerlike motiewe en moet alle beskikbare feite wat noodsaaklik is vir die saak ter sprake billik weerspieël.

3.3.7 Etiek

Hier gaan dit onder meer oor hoe inligting ingesamel en aangebied word. Dit sluit aan by die beginsels van eerlikheid, akkuraatheid, verantwoordelikheid en billikheid. Dit sluit in respek vir die reg, persoonlike regte, godsdienstige en morele oortuigings, om vry te wees van diskriminasie en om jeugdiges en bronne te beskerm. Twyfelagtige metodes van verslaggewing moet vermy word, al beteken dit die storie kan dalk nooit geskryf word nie. 

3.3.8 Verantwoordelikheid

Dit gee balans in ’n vrye mediastelsel. Daarom sluit vryheid van spraak dinge uit soos propaganda met die oog op oorlogvoering, asook die aanhitsing van dreigende geweld of die verkondiging van haat gegrond op ras, etnisiteit, geslag of geloof. Versigtigheid moet aan die dag gelê word om kwesbare groepe soos kinders en verkragtingslagoffers se identiteit te beskerm. Tersaaklike wetgewing hieroor moet gehoorsaam word. Daar moet versigtig en verantwoordelik omgegaan word met die aanbieding van berigte oor wreedheid, geweld en swaarkry.

3.3.9 Openbare belang

Die inhoud van berigte moet ’n geldige belang en belangrikheid vir landsburgers hê. Die reg op privaatheid mag in sommige gevalle ondergeskik wees aan wettige openbare belang. Die pers moet redelike stappe doen om seker te maak persoonlike inligting onder sy beheer word beskerm teen misbruik, verlies of ongemagtigde toegang.

3.3.10 Betekenisvolle, tersaaklike, volledige en onderhoudende inhoud

Dit word bewerkstellig deur lesers te gee wat hulle wil hê (stories), wat hulle nodig het (inligting, vertolking, opvoeding en oorreding), asook dekking van nuusgebeure in die gemeenskap in die geheel en nie net die demografiese groep wat die aantreklikste vir die adverteerders is nie. Om dit te bereik moet die joernalis weet vir wie hy skryf en wat vir die leser belangrik is. Daar moet dus geskryf word oor dinge wat vir mense interessant is en waarvoor hulle omgee: dít wat hulle graag vir ander wil vertel. Dit wat belangrik is vir lesers om te weet, moet dus interessant vertel word. Die meeste stories is ’n mengsel van dit wat interessant en belangrik is.

3.3.11 Konteks en kousaliteit

Daar moet voldoende konteks wees in die berig self of in ’n reeks verwante berigte sodat lesers die groter konteks kan verstaan. Die leser moet ook kan sien watter faktore alles meewerk in die gebeure of kwessies waaroor berig word.

3.3.12 Vergelykbaarheid 

Berigte moet verskillende ideologiese perspektiewe bevat. Al die tersaaklike uitgangspunte in ’n bepaalde konteks moet dus genoem en verstaanbaar verduidelik word. Wanneer byvoorbeeld oor ’n onderwerp soos groot doop geskryf word, moet verwys word na die standpunte daarvoor en daarteen, soos eerstehands verkry van voorstanders vir of teen die bepaalde kwessie.

3.3.13 Omvattendheid

Al die sleutelvraagstukke wat met ’n nuusonderwerp verband hou, moet in ’n berig of reeks berigte belig word.

3.3.14 Vertolkende, diepgaande en ondersoekende werk om gebeure te interpreteer

Hierdie dimensies van joernalistiek help die leser verstaan hoekom sekere gebeure belangrik is en hoe om dit te verstaan. Só verkry nuusgebeure ook tersaaklikheid en belang. Dis volgens sommige bronne ’n poging om die waarheid bloot te lê. Terwyl akkuraatheid gaan oor die weergee van iets wat werklik gebeur het, word verborge feite belig wanneer die waarheid blootgelê word – dis ’n proses waardeur die verwantskap tussen feite aangetoon word om ’n ware beeld van die realiteit te skep.

3.3.15 Diensingesteldheid en waghondfunksie

Die pers is ook daar om die samelewing te dien, hetsy as aktiewe versamelaars van inligting of as waghonde. Deel hiervan is onafhanklike ondersoeke na die magte wat die samelewing vorm. Dis noodsaaklik vir die demokrasie deurdat dit burgers in staat stel om ’n ingeligte oordeel te vel oor die sake van die dag. Deel van dié verbruikersgeoriënteerdheid is om die lesers van gehaltenuus te voorsien wat hul behoeftes bevredig. ’n Goeie verhouding met en voortdurende ingesteldheid op die gemeenskap wat bedien word, is hier noodsaaklik. Die individuele landsburger se perspektief is dus belangrik in nuusproduksie en aandag word daarom gegee aan veral meer plaaslike en alledaagse inligting – die buitekantoorjoernalis vervul veral in hierdie opsig ’n belangrike rol, omdat hy by uitstek gemoeid is met die verskaffing van plaaslike nuus in ’n bepaalde streek.

3.3.16 Onafhanklike, vry media 

Kommersiële, politieke, persoonlike en ander nieprofessionele oorwegings mag beriggewing nie beïnvloed nie. Adverteerders en die staat mag nie inmeng in joernalistieke inhoud nie. ’n Onafhanklike, vry media beskerm joernaliste teen politieke en ekonomiese belange sodat dit nie die nuuskriteria en joernalistieke inhoud bepaal nie. 

Die intens mededingende hedendaagse media-omgewing waar die verhouding tussen ’n joernalis en sy lesers toenemend belangriker word, skep egter uitdagings om ’n fyn balans te handhaaf tussen die bogenoemde waardes en eise van die publiek (Schoenbach en Van der Wuff 2014a:433). Die mededingendheid van die mediamark is trouens volgens Brants (2013:21) die grootste oorsaak van swak prestasie onder baie joernaliste. Schweiger en Urban (2014) sluit hierby aan: Die vinnige pas waarteen nuus vir webwerwe vervaardig moet word, laat groter ruimte vir feitefoute asook onvolledige en bevooroordeelde nuus.

 

4. Teoretiese raamwerk

4.1 Stelselteorie

Stelselteorie is as metateoretiese raamwerk vir die studie gebruik. Die Oostenrykse wetenskaplike Ludwig von Bertalanffy het die algemene stelselteorie in 1940 ontwikkel as ’n teorie oor die organisme as ’n oop stelsel (Hendrickson en Tankard 1997, soos aangehaal deur Swanepoel 2012:58). Von Bertalanffy het die ingewikkeldheid van ’n lewende (biologiese) stelsel beklemtoon, asook die verbondenheid van dele daarvan. Hy het geredeneer dat indien ’n mens die aard van die dele verstaan, dit ook sal help om die aard van die objek of gebeurtenis as ’n geheel (die stelsel) te verstaan.

Die stelselteorie is later na ander velde uitgebrei, onder meer politiek (Swanepoel 2012:58). Die stelselbenadering tot bestuur het in die 1950’s posgevat in weerwil van bestaande praktyke waar net op sekere aspekte van maatskappyfunksies in isolasie gefokus is (Cronjé e.a. 2000:117; Swanepoel 2012:58). Vanuit ’n stelseloogpunt kan bestuur nou ’n ewewig tussen die verskillende onderdele van die onderneming en sy omgewing bewerkstellig (Cronjé e.a. 2000:117). Dit het veral in die 1980’s gewild geword om bestuur vanuit dié oogpunt te beskou.

Volgens Luhman (2013:26–7) is die kern van die stelselbenadering om te kyk na die handhawing van ’n sekere balans of bestendigheid binne ’n stelsel en hoe en waardeur dit versteur kan word. Dit bekyk ook hoe ’n stelsel steeds bestendig kan wees, al word dit erg deur versteurings in die onmiddellike en wyer omgewing beïnvloed.

4.1.1 Stelsels en omgewings

’n Belangrike aspek van die stelselbenadering is hoe die verskillende soorte omgewings binne en buite die stelsel dit kan beïnvloed, onder meer die kompetisie, geografiese werklikhede en die kliënte se goedgesindheid (Swanepoel 2012:59). Dit kan wissel van faktore in die stelsel se onmiddellike taakomgewing soos hulpbronne om take te verrig, tot die makro-omgewing daarbuite wat faktore soos die politiek of ekonomie insluit (Cronjé e.a. 2000:65–6; Swanepoel 2012:59, 114).

Stelsels word ook beskryf ten opsigte van die mate waarin dit in wisselwerking met die omgewing is. ’n Geslote stelsel het baie min interaksie met sy omgewing – byvoorbeeld ’n kopieermasjien. In die geval van ’n oop stelsel is die grense deurdringbaar en moeilik om presies te definieer (Swanepoel 2012:60). In sulke stelsels is daar ’n groter mate van wisselwerking met die eksterne omgewing, wat dikwels veranderinge en onbestendigheid tot gevolg het. Die buitekantoor van ’n dagblad is tipies ’n onbestendige omgewing weens eerstens die onvoorspelbare aard van nuus, en tweedens die groot invloed wat die omgewing op die nuusbestuursproses kan hê. Die buitekantoor van ’n dagblad vorm binne die konteks van die stelselteorie dus ’n oop stelsel wat deel vorm van en skakel met onder meer die groter maatskappystelsel (die hoofkantoor), asook die groter samelewing (Parsons 1991:5–6; Swanepoel 2012:64; Luhman 2013:43).

Hier onder verskyn ’n skematiese voorstelling van die verskillende omgewings binne en buite ’n organisatoriese stelsel wat dit kan beïnvloed (Figuur 1).

Figuur 1. Omgewings binne en buite ’n organisatoriese stelsel wat die stelsel beïnvloed

’n Belangrike dryfkrag agter die funksionering van ’n stelsel is om sekere doelwitte te bereik. 

4.1.2 Doelwitte en prosesse binne stelsels

Doelwitte binne ’n stelsel word bereik deur die volg van bepaalde prosesse. Die drie grondliggende prosesse in ’n stelsel is soos volg (Swanepoel 2012:61; Cronjé e.a. 2000:37):

  • Insette (“inputs”), wat die verkryging van hulpbronne uit die omgewing, soos geld, fisiese fasiliteite, grondstowwe en mense (arbeid), behels.
  • Verwerking (“throughput”/“transformation”), wat verwys na die gebruik en verfyning van insette. Dié transformasieproses behels nie net die produksieproses (die omskepping van insette tot produkte of dienste) nie, maar ook die bestuursproses (Cronjé e.a. 2000:37). Die verwerking van uitsette betrek dus werknemers se werksaktiwiteite, bestuursaktiwiteite, asook tegnologiese en operasionele metodes. Dit is dus al die aktiwiteite wat die insette uit die omgewing omskep tot produkte en dienste aan die omgewing (Cronjé e.a. 2000:38).
  • Uitsette (“outputs”), die eindresultaat (produk/diens) wat na die omgewing (die gemeenskap) deurgevoer word (Cronjé e.a. 2000:37; Swanepoel 2012:61). 

Swanepoel (2012:21) meen ’n stelsel-en-proses-gegronde benadering is uiters geskik om mediabestuur te ondersoek: Dit erken die verhouding tussen die nuusorganisasie en die eksterne omgewing, en identifiseer en bekyk al die komponente wat mekaar tydens die proses van nuusskepping beïnvloed om die eindproduk/uitset te skep. Die stelselteorie as teoretiese vertrekpunt is dus ook gepas in hierdie studie oor die bestuur van prosesse in ’n buitekantoor. ’n Buitekantoor is immers deel van die groter stelsel van die nuusorganisasie, asook die breër samelewingskonteks waarbinne die koerant en sy webwerf funksioneer.

4.1.3 Nielineêre stelselbenadering vs. lineêre stelselbenadering

In hierdie studie is spesifiek gefokus op prosesse as deel van die nielineêre stelselbenadering. Dié benadering is gevolg omdat dit so geskik is vir die ondersoek van onvoorspelbare en ingewikkelde verskynsels (Capra 2005:33–5; Walby 2007:454–5). Die term nielineêre stelsels is ontwikkel om die teendeel te beskryf van wat in wiskundige terme bekend staan as ’n lineêre verhouding. ’n Lineêre verhouding is tipies een waar die uitset altyd die som van twee of meer insette sal wees. Die hele stelsel is dus gelyk aan die som van sy dele (Hardesty 2010). So ’n stelsel word in Figuur 2 hier onder voorgestel.

’n Nielineêre stelsel/verhouding is in teenstelling hiermee volgens businessdictionary.com en dictionary.com se definisies ’n “stelsel waar die uitwerking van eksterne faktore (insette) nie presies bereken kan word nie” (eie vertaling). Volgens dié definisie is die geheel juis nié die presiese som van die dele nie, is veranderinge nie direk in verhouding tot insette nie, en kan wiskundige ontledings dit nie beskryf nie (Walby 2007:459).

Die volgende kenmerke van nielineêre stelsels kan in die lig van bostaande geïdentifiseer word (Nowotny 2005:16; Capra 2005:34–5; Walby 2007:456; Cham en Johnson 2007; Reference for Business 2017):

  • Eenheid: Verskillende interafhanklike elemente en stelsels wat in wisselwerking met mekaar is en as ’n eenheid funksioneer.
  • Selforganiserend: Die verskillende elemente en stelsels werk dikwels onbepland en onwetend volgens inherente reëls saam om ’n bepaalde orde te skep. Dié reëlmaat is dikwels verborge, maar dit kan deur wetenskaplike studie beskryf word.
  • Onvoorspelbaarheid en voortdurende verandering: Die elemente en stelsels pas by mekaar aan en wysig mekaar in reaksie op hul omgewing. Klein gebeure/insette kan groot gevolge hê. Toekomstige gedrag kan nie met sekerheid voorspel word nie. 

Dié beskrywing toon verskeie raakpunte met die kompleksiteitsteorie (Cilliers 2000:24–6). Die eienskappe van ’n komplekse stelsel kan soos volg opgesom word:

  • Dit bestaan uit ’n groot aantal elemente wat elk op sigself eenvoudig kan wees.
  • Dié elemente is in dinamiese wisselwerking met mekaar. Selfs al is sekere elemente net met party ander in wisselwerking, kan dit ’n rimpeleffek hê wat deur die hele organisasie uitkring. Die nielineêre karakter van die wisselwerking kan dus veroorsaak dat klein oorsake groot gevolge het, en omgekeerd. ’n Skynbaar onbenullige gebeurtenis of faktor het dus die potensiaal om alles te verander. Dit is deels omdat die geskiedenis, oftewel geheue van ’n komplekse stelsel bepalend is vir die funksionering daarvan: Die omvang van uitkomste word nie alleen deur oorsake binne die hier en nou bepaal nie, maar ook deur die groter/eksterne konteks en geskiedenis van die stelsel.
  • Dis ’n oop stelsel wat inligting of energie met sy omgewing uitruil. Die grense met die omgewing is gevolglik vaag en die stelsel is selde bestendig. ’n Oop-stelsel-organisasie (soos ’n nuuskantoor) kan dus nie onafhanklik van die konteks/omgewing waarbinne dit funksioneer, verstaan word nie.
  • Weens die ryk, dinamiese en nielineêre wisselwerking tussen elemente kan die stelsel se gedrag nie voorspel word deur die afsonderlike komponente te bestudeer nie. Dis ’n stelsel waarin die onverwagse verwag moet word.
  • Sulke stelsels is aanpasbaar. Hulle kan hulself intern herorganiseer sonder die ingrepe van ’n agent/faktore van buite.

Botma (2016:102) wys op die toepaslikheid van kritiese kompleksiteitsteorie in joernalistieke opleiding: Die hedendaagse Suid-Afrikaanse media en gemeenskap is so ingewikkeld/kompleks dat die tradisionele benadering tot joernalistiek nie altyd meer toepaslik in postkoloniale Suid-Afrika is nie. Binne die raamwerk van kompleksiteitsteorie behoort joernaliste dus opgelei te word om beter binne ’n onseker samelewing te funksioneer en die arm, swart meerderheid se belange beter te dien. ’n Groter ontvanklikheid vir die verskeidenheid van en verskille tussen mense in Suid-Afrika is nodig om ongelykhede tussen mense en ongelyke toegang tot inligting te probeer herstel. Hierdie punt sluit aan by die argument in hierdie artikel dat die saamstel van ’n omgewingsprofiel ’n belangrike hulpmiddel vir joernaliste kan wees om die verskeidenheid mense en kragte in hul omgewing beter te verstaan en in ag te neem (vgl. 5.4.4). Sien Figuur 3 vir ’n skematiese voorstelling van ’n nielineêre/komplekse stelsel.

Die uitdaging is om patrone in bepaalde prosesse binne die nuusorganisasie te vind, in wisselwerking met ander stelsels wat oorvleuel met dié van die nuusorganisasie. Dié studie was ’n poging om binne die konteks van ’n komplekse, nielineêre stelsel reëlmatigheid te vind in die uitvoering en bestuur van spesifieke prosesse in die buitekantoor van ’n dagblad wat eindelik meewerk om berigte van ’n goeie gehalte as uitset te verkry. Die bestuursproses maak doelgerigte optrede om gehalte en sukses te verseker, moontlik (Cronjé e.a. 2000:32).

Figuur 2. Lineêre stelsel

Figuur 3. Nielineêre stelsel

 

5. Metodologie

Volgens Bogdan en Taylor (1988:3) is metodologie die manier waarop probleme benader en antwoorde gevind word. Een manier waarop dit in sosiale wetenskappe gedoen kan word, is deur die positivistiese benadering, wat ooreenstem met natuurwetenskaplike navorsingsbenaderings: Die feite en oorsake van samelewingsverskynsels word bepaal sonder inagneming van persepsies. Kwantitatiewe metodes soos statistiese ontleding word tipies gebruik wanneer ’n positivistiese benadering gevolg word. 

Die doel van hierdie studie was egter om te bepaal watter prosesse die joernalis in die buitekantoor van ’n Suid-Afrikaanse dagblad binne die konteks van ’n stelselteorie-en-prosesbenadering kan volg om gehalteberiggewing te bestuur te midde van daaglikse uitdagings binne sy organisasie én in die groter omgewing waarbinne hy werk. Die studie was ook ’n poging om in die subjektiewe werkswyse van individuele joernaliste in buitekantore patrone te vind wat gebruik kan word om riglyne daar te stel vir die prosesmatige bestuur van ’n buitekantoor.

Hiervoor is ’n kwalitatiewe benadering uiters geskik, omdat dié benadering daarop gemik is om samelewingsverskynsels te ondersoek vanuit die deelnemers se perspektief en subjektiewe ervaring van hul leefwêreld (Bogdan en Taylor 1998:3–4). Die hoofstrewe hier, in teenstelling met die kwantitatiewe benadering, is om die beweegredes te verstaan agter dit wat mense doen. Volgens Bogdan en Taylor (1998:8) genereer kwalitatiewe metodes tipies beskrywende data in mense se eie geskrewe of gesproke woorde en waarneembare gedrag op grond van hoe hulle in die alledaagse lewe dink en optree. Dis ook ’n uitkoms van hierdie studie.

’n Kwalitatiewe studie kan betroubaar en geldig wees net indien dit aan bepaalde vereistes voldoen. Die kernbeginsel van betroubaarheid is dat dieselfde navorsingsmetode herhaal moet kan word om dieselfde resultate op te lewer (Flick 2014:481–3). Geldigheid weer het te doen met die mate waarin die navorser se uitbeelding of konstruksie van die werklikheid empiries gegrond is (Flick 2014:483). Die aanname hier is dat die realiteit onafhanklik van persepsies, interpretasies of die aanbieding daarvan bestaan.

Denzin en Lincoln (2000:582), Willis (2007:165–7; 216–20), Swanepoel (2012:25) en Flick (2014:483–6) identifiseer die volgende kenmerke wat die betroubaarheid en geldigheid van kwalitatiewe studies verhoog:

  • Die ontwikkeling van temas, konsepte en teorieë moet gedokumenteer word. In kwalitatiewe studies is die belangrikste onderbou vir geldigheid en betroubaarheid dat dit wat die navorser gesien en gehoor het, feitelik korrek gedokumenteer word omdat dit die grondslag vorm waarop die betekenis van die ingesamelde data en waarnemings ontwikkel, gebruik en aangebied word. Die afwesigheid van spesifieke statistieke om gevolgtrekkings en kommentaar te staaf, moet vervang word met stawing deur die gebruik van verskillende bronne en navorsingsmetodes (bekend as triangulasie). Kommentaar en gevolgtrekkings wat uit al hierdie bronne en metodes verkry word, moet sin maak en ’n samehangende geheel vorm. Die navorser oortuig dus nie deur statistieke nie, maar met ’n argumentasielyn wat geskep is deur die gebruik van verskillende bronne en metodes. In die meestersgraadstudie waarop hierdie artikel gegrond is (Cilliers 2018), is dit verkry deur ’n omvattende konseptualiseringshoofstuk, ’n literatuurstudie en uiteensetting van metodes, wat as ’n grondige vertrekpunt gebruik is vir bevindinge en gevolgtrekkings.
  • Dit moet met bestaande bevindings oor die onderwerp ooreenstem en deur ’n bepaalde navorsingsgemeenskap aanvaar word. Daar moet dus grootliks konsensus wees tussen die navorser, ander navorsers en vakkundiges oor die onderwerp. Hierdie sogenaamde eksterne bewyse, soos bestaande kwalitatiewe en kwantitatiewe studies om die gevolgtrekkings te staaf, het deel gevorm van die empiriese ontleding, slot en gevolgtrekking van die studie.
  • Die navorsingsinstrumente moet meet wat dit veronderstel is om te meet. In die oorspronklike studie is breedvoerig hieraan aandag gegee (Cilliers 2018:64–75).
  • Dit moet die werklikheid weerspieël. Veral in die geval van interpreterende kwalitatiewe studies is die mikpunt egter nie om een ware realiteit te vind nie. Die rol van triangulasie is hier nie net om feite te verifieer nie, maar ook om groter begrip uit verskillende perspektiewe op die realiteit te kry. Aansluitend hierby moet die studie bruikbaar wees deurdat dit beter begrip bewerkstellig oor ’n situasie of vorige ervarings wat moeilik verstaanbaar is, of deurdat die studie die ontwikkeling van toekomstige situasies voorspel. Die studie moet dus nuttige toepassingsriglyne kan verskaf. In hierdie studie is ook aan al dié aspekte voldoen, onder meer in die manier waarop data uit die praktyk versamel is en bestudeer en gebruik is om praktiese riglyne op te stel.
  • Betroubare metodes moet gebruik word. Binne die konteks van kwalitatiewe navorsing beteken dit die metodes moet geloofwaardig wees, hoewel ’n voorvereiste hier nie noodwendig is dat dit herhaal moet kan word nie. Die manier waarop data ingesamel word, is baie belangrik om interne geldigheid te verseker: Data wat ingesamel word, moet baie ooreenstem, al word dit op verskillende tye en plekke gedoen. Die betroubaarheid hiervan kan verhoog word deur beproefde metodes te gebruik om data in te samel en die proses van insameling in die fynste besonderhede te dokumenteer. Dit is wel in hierdie studie gedoen.
  • ’n Behoorlike proses van data-ontleding. Hier moet duidelik onderskei word tussen wat die deelnemers gesê het en waar die navorser se interpretasie daarvan begin. Ook hierdie aspek het in die oorspronklike studie aandag geniet deur ’n breedvoerige ontleding van die data wat uit vraelyste en opvolgonderhoude verkry is.

Die fokus in hierdie studie het geval op buitekantoorjoernaliste, teenoor vryskutjoernaliste en gemeenskapskorrespondente (hoofsaaklik niejoernaliste wat sporadies nuusbydraes voorsien). Die kernverskil tussen buitekantoorjoernaliste enersyds en vryskutjoernaliste en gemeenskapskorrespondente andersyds is dat laasgenoemde twee nie permanente/vaste aanstellings by koerante of publikasies het nie. Hulle het ook nie noodwendig toepaslike kwalifikasies of ervaring in joernalistiek nie.

Om die studie af te baken, moes gedefinieer word wat presies ’n buitekantoorjoernalis binne die konteks van die navorsing is. Geen spesifieke definisie vir ’n buitekantoorjoernalis kon in die literatuur gevind word nie. Onder meer handboeke, akademiese tydskrif- en internetartikels, asook tersaaklike proefskrifte en verhandelings is in die literatuurstudie geraadpleeg, soos verkry van onder meer die volgende databasisse: GoogleScholar, Noordwes-Universiteitsbibliotekekatalogus, LibGuides, SAePublications, Web of Science, A tot Z-Tydskriflys, ScienceDirect, EBSCOhost en LexisNexis. ’n Nexus-soektog kon geen studie opspoor wat die vraagstuk van die bestuur van nuusprosesse in die buitekantooropset van ’n dagblad ondersoek nie.

Die soekwoorde streekskorrespondente en streekskantoor op GoogleScholar het ’n wye verskeidenheid resultate opgelewer wat meestal nie gepas was vir die fokus van hierdie studie nie. Dié terme het byvoorbeeld studies oor korrespondente in ander velde as die media en ook in verskillende soorte mediavelde opgelewer. Binne die joernalistieke konteks word die woord korrespondent dikwels gebruik om ook na mense te verwys wat nie vas aangestel is nie, in die buiteland of vir plaaslike koerante in streke werk. Nie een van hierdie kategorieë het die spesifieke groep joernaliste wat in hierdie studie ondersoek is, ingesluit nie, hoewel daar natuurlik raakpunte is in die werkswyses van buitekantoorjoernaliste aan die een kant en aan die ander kant streekskorrespondente wat nie vas aangestel is nie, asook joernaliste by plaaslike koerante. Geen spesifieke studie oor joernaliste soos in die werksdefinisie hier onder gedefinieer, kon egter gevind word nie.

Dit was gevolglik nie moontlik om ’n definisie van buitekantoorjoernaliste uit die bestaande literatuur saam te stel nie. Daarom is daar self ’n definisie hiervan saamgestel met die hulp van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT). 

Hiervolgens verwys die woord buite na iets wat “nie binne” is nie (Odendal en Gouws 2010:127). Die woord buitekantoor is nie in die HAT gelys nie. Aangesien dikwels ook na buitekantore verwys word as satellietkantore, is die betekenis van die woord satelliet nageslaan. In die HAT word dit beskryf as “iets wat van ’n ander afhanklik is” (Odendal en Gouws 2010:977). Hoewel die woord satellietkantoor ook nie in die HAT voorkom nie, kom satellietkampus wel daarin voor en dit word soos volg omskryf: “Tweede of volgende kampus wat in sommige opsigte afhanklik is van die hoofkampus waar die sentrale administrasie gevestig is” (Odendal en Gouws 2010:977). 

Gegewe dié omskrywings kan ’n buitekantoor gedefinieer word as ’n kantoor weg van (buite) die hoofkantoor, wat steeds in ’n mate afhanklik is van die hoofkantoor waar die sentrale administrasie geleë is. Die HAT (Odendal en Gouws 2010:500) definieer ’n joernalis as iemand wat redaksiewerk doen en bydraes vir ’n publikasie lewer, veral ’n koerant. ’n Dagblad is volgens die HAT ’n koerant of ’n nuusblad wat elke weekdag verskyn (Odendal en Gouws 2010:141).

Werksdefinisie: Uit bostaande word die groep mense (buitekantoorjoernaliste) wat in hierdie studie bestudeer is, soos volg gedefinieer: Een persoon wat permanent/vas aangestel is om bydraes (berigte) te skryf vir ’n koerant wat elke weeksdag in Suid-Afrika verskyn, vanuit ’n bepaalde streek of provinsie weg van die koerant se hoofkantoor waar die sentrale administrasie geleë is, selfstandig vanuit ’n eenmankantoor en sonder die hulp van ander joernaliste.

Buitekantoorjoernaliste is dus as ’t ware hul eie nuusredakteurs, omdat hulle op hulself aangewese is, afsonderlik funksioneer en daagliks nuusbesluite neem wat tradisioneel eerder deur die nuusredakteur geneem word.

’n Nie-ewekansige, doelbewuste steekproef is gedoen om buitekantoorjoernaliste in Suid-Afrika te identifiseer wat voldoen aan die werksdefinisie hier bo. In dié verband wys Du Plooy (2009:108) daarop dat ’n verteenwoordigende steekproef van die groter populasie (om byvoorbeeld vraelyste in te vul) ’n vereiste is wanneer kwantitatiewe navorsing gedoen word. Dit is veral nodig om die resultate te kan veralgemeen na die groter populasie. Hoe nouer die definisie van die beskikbare populasie egter is, hoe moeiliker sal dit wees om te veralgemeen. Hoe meer homogeen die populasie is wat ondersoek word, hoe kleiner hoef die steekproef te wees (Du Plooy 2009:110). Sulke studies is dikwels meer kwalitatief, soos hierdie studie. Dit is dus aanvaarbaar om ’n nie-ewekansige steekproef saam te stel waar almal in die populasie nie ’n gelyke kans het om as ’n respondent/deelnemer gekies te word nie.

Een manier om ’n nie-ewekansige steekproef te trek, is die doelbewuste steekproef (Du Plooy 2009:122–3). Bailey (1994:96) sê in sulke gevalle gebruik die navorser sy eie oordeel om deelnemers vir die steekproef te kies op grond van hoe hy die doelwitte van die studie ten beste sal kan verwesenlik. Du Plooy (2009:122–3) sê voorts hierdie werkswyse is geskik wanneer inligting oor ’n klein teikengroep ingesamel word, wat die geval in hierdie studie is.

Met die aanvang van die studie in 2015 het 13 buitekantoorjoernaliste in Suid-Afrika aan die reeds genoemde definisie vir die doel van hierdie studie voldoen. Een van hulle was die hoofnavorser, Susan Cilliers, wat nie aan die studie kon deelneem nie. Altesame 8 uit die 13 het aanvanklik ingestem om aan die studie deel te neem, wat 61,5% van die totale populasie verteenwoordig. Een van hulle het egter ná die eerste fase van die studie nie meer sy samewerking gegee nie, wat veroorsaak het dat die eerste vraelys deur al agt die deelnemers ingevul is, maar die tweede vraelys deur sewe deelnemers. 

Al die deelnemers het, nadat hulle per e-pos of telefonies ingestem het om deel van die studie te wees, ook ’n formele toestemmingsvorm geteken. In dié vorm is die doelwitte van die studie, verwagtinge van die deelnemers en die voorwaardes vir deelname daaraan in besonderhede uiteengesit. Die deelnemers het sodoende formeel ingestem om aan die studie deel te neem. Die deelnemers is ook verseker dat hul identiteit nie in die studie bekend gemaak sou word nie. Hiermee is dus aan die etiese vereistes voldoen, deurdat die deelnemers vooraf voldoende ingelig is oor die doelwitte, verwagtinge en voorwaardes vir die studie. Hulle is ook ingelig dat hul deelname vrywillig moet wees en anoniem is en hulle in enige stadium aan die studie kon onttrek.

Vir die doel van hierdie studie is slegs Engelse en Afrikaanse algemene-nuus-dagblaaie in Suid-Afrika ingesluit wat nasionaal of in ’n streek versprei word. Die volgende Suid-Afrikaanse dagblaaie het met die aanvang van die studie in 2015 aan dié definisie voldoen: Daily Sun, Sowetan, Die Son, The Star, Beeld, Die Burger, Volksblad, The Times, The Citizen en The New Age. Die gekose dagblaaie sluit nie dié in wat net in groot stede soos Durban, Kaapstad en Pretoria versprei word nie. Spesialis-dagblaaie wat byvoorbeeld sakenuus dra (soos Business Day) is ook uitgesluit. Redakteurs of nuusredakteurs by die publikasies wat wel aan die definisie vir hierdie studie voldoen het, het met die aanvang van die studie in 2015 die volgende inligting oor buitekantoorjoernaliste verskaf:

  • Daily Sun: Dié publikasie het satellietkantore regoor die land met kantoorhoofde aan die stuur van elkeen. Hulle maak gebruik van vryskutjoernaliste. Dié koerant het dus nie geskikte deelnemers vir die studie nie.
  • Sowetan: Hier is net een buitekantoorjoernalis in diens in Noordwes Sy en haar redakteur het aanvanklik ingestem om aan die studie deel te neem, maar die joernalis het later via WhatsApp laat weet sy kan weens “onvoorsiene omstandighede” nie meer daaraan deelneem nie. Pogings om haar daarna te kontak en vas te stel of sy nie tog steeds aan die studie sal deelneem nie, was onsuksesvol.
  • Die Son: Hierdie koerant het een buitekantoorjoernalis. Hy en sy afdelingshoof het toestemming gegee dat hy ’n respondent kon wees. Hy het egter net die eerste vraelys beantwoord.
  • The Star: Dié koerant het geen satellietkantore of buitekantoorjoernaliste nie.
  • Beeld: Hier is vier buitekantoorjoernaliste, van wie een die navorsers een is, wat nie self aan die studie kon deelneem nie. Die redakteur en die ander drie joernaliste het ingestem om aan die studie deel te neem. Een van die deelnemers het intussen (ná die aanvang van die studie) afgetree, maar het steeds aan die studie deelgeneem. Hy kon baie waardevolle insette lewer, omdat hy voor sy aftrede meer as 30 jaar ervaring as ’n joernalis gehad het, waarvan meer as 10 jaar aan die stuur van ’n buitekantoor was.
  • Die Burger: Hier is nie buitekantoorjoernaliste wat aan die definisie voldoen nie. Daar is wel satellietkantore in o.a. George en Stellenbosch waar meer as een joernalis werk.
  • Volksblad: Hier is twee buitekantoorjoernaliste en een voormalige buitekantoorjoernalis wie se toesighouers/redakteurs toestemming gegee het dat hulle aan die studie mag deelneem. Die joernaliste self het ook ingestem. Die voormalige buitekantoorjoernalis is by die studie ingesluit omdat sy tot kort voor die aanvang van die studie baie jare lank in ’n buitekantoor van dié dagblad gewerk het. Ons het dus gemeen dat die voormalige joernalis ’n sinvolle bydrae sou kon lewer.
  • The Times: Hierdie koerant het meestal satellietkantore met ’n volledige opset en verskeie joernaliste wat nie aan die definisie van hierdie studie voldoen nie. Een joernalis voldoen egter wel aan die definisie. Hy beman ’n eenmankantoor in Pretoria en dek nuus in dié stad asook in dele van Limpopo, Mpumalanga en Noordwes. Hy en sy nuusredakteur het albei toestemming gegee dat hy ’n respondent in die studie kon wees.
  • The Citizen: Hier is geen satelliet- of buitekantore nie.
  • The New Age: Hier word van sowel vryskutjoernaliste as buitekantoorjoernaliste gebruik gemaak. Die koerant het drie buitekantoorjoernaliste in onderskeidelik die Oos-Kaap, Mpumalanga en Limpopo gehad wat geskikte deelnemers vir die studie kon wees. Nie een van hulle wou aan die studie deelneem of redes verskaf vir hoekom hulle nie wil deelneem nie.

Van die ses koerante wat voldoen aan die definisie van dagblaaie wat deel van die studie uitmaak, het vyf dus aan dié studie deelgeneem.

5.1 Literatuurstudie

Die metateoretiese raamwerk is deur middel van ’n omvattende literatuurstudie uiteengesit, en verskeie aspekte wat betrekking het op die dagtaak van ’n buitekantoorjoernalis binne die konteks van die stelselteorie, is uit die literatuur geïdentifiseer. Vraelyste, dokumente en opvolgonderhoude met die deelnemers is aanvullend tot die literatuurstudie gebruik om die tersaaklike prosesse in die bestuur van ’n buitekantoor te identifiseer.

5.2 Kwalitatiewe vraelys

Twee semigestruktureerde, kwalitatiewe vraelyste is opgestel met voorafgeformuleerde vrae waaroor die deelnemers vryelik kon praat en uitwei (Denzin en Lincoln 2000:649–53; Du Plooy 2009:198–9). Die metode is geskik om begrip te verkry van ’n individuele of groepsperspektief, byvoorbeeld om te beskryf hoe mense te werk gaan (Denzin en Lincoln 2000:646; Du Plooy 2009:108; 198–9). Só kon binne die konteks van hierdie studie begrip verkry word oor ingewikkelde gedrag van buitekantoorjoernaliste sonder voorafbepaalde kategorieë wat die ondersoek kon inperk (Denzin en Lincoln 2000:649–53).

Die volgende stappe is gevolg om die twee vraelyste met altesame 84 vrae op te stel: 

  • Stap 1. Buitekantoorjoernaliste se vyf kerntake is eerstens uit literatuur oor die kerntake van joernaliste in die algemeen geïdentifiseer. Geen soortgelyke studie is tevore oor buitekantoorjoernaliste gedoen nie – ’n Nexus-soektog kon geen studie opspoor wat die vraagstuk van die bestuur van nuusprosesse in die buitekantooropset van ’n dagblad ondersoek nie. Ander bronne moes dus geraadpleeg word om die literatuur oor joernaliste se kerntake eerstens te verifieer en verder aan te vul met dié take wat spesifiek van toepassing is op buitekantoorjoernaliste. Twee aanvullende bronne is vir dié doel gebruik: Media24 se Kritieke-Prestasie-Area-vorm vir buitekantoorjoernaliste, asook voorlopige onderhoude met van die deelnemers. Die vyf kerntake is selfbestuur, die saamstel van ’n kontaklys, nuusgenerering, die skryf van nuus/berigte, en voortdurende kommunikasie met die nuusredakteur.
  • Stap 2. Die verskillende prosesse en, waar toepaslik, subprosesse betrokke by elk van die vyf geïdentifiseerde kerntake is uit verskillende literatuurbronne geïdentifiseer. Die uitgangspunt hier was deurgaans die teoretiese onderbou van die stelselteorie, naamlik dat prosesse in ’n stelsel uitgevoer word om sekere doelwitte te bereik en dat dié prosesse bestaan uit insette wat tot bepaalde uitsette verwerk word.
  • Stap 3. Insette wat nodig is vir die uitvoer van die prosesse wat in stap 2 geïdentifiseer is, is voorts deur middel van ’n omvattende literatuurstudie geïdentifiseer. Dit sluit in hulpmiddele, die individu en die omgewing. Hier is gefokus op hulpmiddelle soos diensvoorwaardes en infrastruktuur. By die individu is geen vrae opgestel om gehalte van berigte as sulks te meet nie, maar wel met betrekking tot aspekte van selfbestuur, soos die bepaling en bereiking van doelwitte, beplanning, produktiwiteit, perspektief en persoonlikheid. Wat die omgewing betref, is vrae geformuleer rondom aspekte in die omgewing waarop joernaliste ag behoort te slaan, soos demografiese inligting, die ekonomie, politiek en omgewing.
  • Stap 4. Die verskillende aspekte waaruit die geïdentifiseerde kerntake, prosesse en hulpmiddele bestaan, is gebruik om ’n semigestruktureerde vraelys op te stel. Die wye omvang van dié elemente en komponente het daartoe gelei dat altesame 84 vrae geformuleer is. Die vrae is tussen twee vraelyste verdeel, een met 48 vrae en een met 36 vrae. Die doel met die vraelyste was om vas te stel of die teorie oor watter elemente en komponente nodig is om gehalteberiggewing in die buitekantoor van ’n dagblad te bewerkstellig, strook met dit wat sulke joernaliste in die praktyk doen. Die vraelyste was dus daarop gemik om die teorie te toets en te verifieer en so ooreenkomste en verskille tussen teorie en praktyk te identifiseer.

5.3 Opvolgonderhoude

Semigestruktureerde, een-tot-een-onderhoude is telefonies of per e-pos met van die deelnemers gevoer nadat hulle die vraelyste ingevul het, om waar nodig onduidelikhede uit te klaar of gebrekkige antwoorde meer sinvol beantwoord te kry. Die terugvoer was ook bevredigend.

5.4 Data-ontleding

’n Kwalitatiewe ontleding van die deelnemers se terugvoering is gedoen aan die hand van die geïdentifiseerde kerntake, prosesse en insette wat in die vraelyste getoets is. By elk van hierdie aspekte is telkens geëvalueer waar die terugvoering van die deelnemers ooreenstem of nié ooreenstem nie met dit wat die literatuur oor die geïdentifiseerde aspekte sê. Die literatuur is grootliks bevestig, maar in die antwoorde wat die deelnemers verskaf het, het bykomende prosesse of beginsels wat die joernaliste toepas, na vore gekom. Uit die antwoorde op die vrae kon ook tekortkominge geïdentifiseer word waar buitekantoorjoernaliste veral weens werk- en tydsdruk nie optimaal kan funksioneer nie.

Die data-ontleding was baie omvattend. Dit word vervolgens in verkorte formaat uiteengesit, aan die hand van konsepte en konstrukte (take) wat geformuleer is.

5.4.1 Konsep 1: Die nuusproduk

Vrae is geformuleer om die prosesse te ondersoek wat buitekantoorjoernaliste behoort te volg om berigte van goeie gehalte (die nuusproduk) te lewer. Hierdie prosesse is as bepaalde take geformuleer. Dié take is die konstrukte wat gebruik is om vrae op te stel.

5.4.1.1 Konstruk 1: Selfbestuur

Vrae is geformuleer op grond van die verskillende geïdentifiseerde elemente (uit die literatuur) van selfbestuur. Die volgende bronne is gebruik om dié elemente te identifiseer: Timm (1998:16–75); Cronjé e.a.(2000:105, 122); Evans en Lindsay (2014); Raffoni (2005:17); Michelman (2005:29, 121); Billington (2005:39, 43); Von Hoffman (2005:50–1, 47); McFarland (2005:82–3); Stauffer (2005:127–8, 134–7); Croft (1996:2, 5, 7, 10–2, 32–3, 41, 43, 45, 49–53, 98–9, 171); Lewis (1995:36–7, 69, 72, 117, 158–9, 186–91); Steyn (2006:340–55); Coulter en Robbins (2005:458–60); Swanepoel (2012:55–7) en Drucker (2006:3–4).

Tabel 1. Elemente van selfbestuur

Elemente

Beskrywing

Bepaal en behaal doelwitte

  • Dit bepaal wat belangrik is en waarop gefokus moet word. Dis rigtinggewend vir beplanning.
  • Doelwitte word bepaal op grond van waardes wat vir jouself en die maatskappy belangrik is.
  • Maak seker doelwitte is konkreet en spesifiek, realisties, meetbaar, bereikbaar (die nodige hulpbronne is beskikbaar) en dat ’n sperdatum daaraan gekoppel is.
  • Vind ’n balans tussen jou eie doelwitte en dié van die maatskappy.

Beplanning

  • Wat word gedoen?
  • Wanneer word dit gedoen (prioritiseer)?
  • Dringende take word gouer gedoen.
  • Meer tyd word aan belangriker take bestee.
  • Moenie tyd bestee aan take wat nie belangrik of dringend is nie.

Produktiwiteit

  • Maak voorsiening vir tye wanneer jy onderbrekings sal toelaat, maar wees ferm om dit nie buite dié tye toe te laat nie.
  • Bêre dokumente wat jy weer gaan gebruik, raak ontslae van die res.
  • Onderskei wanneer onderskeidelik e-pos-, persoonlike of telefoniese kommunikasie die doeltreffendste sal wees.
  • Moenie onnodig uitstel nie.
  • Oorwin besluiteloosheid met sistematiese beplanning en prioritisering.
  • Voorkom selfoorlading deur te bly fokus op prioriteite, te delegeer en selfhandhawend op te tree.

Beheer (om seker te maak take word wel uitgevoer en dat aanpassings gemaak word indien nodig)

  • Meet prestasie.
  • Vergelyk dit met die verwagte standaard.
  • Doen stappe om onbevredigende prestasie reg te stel.
  • Gebruik die AGB-benadering om gehalte/prestasie te bestuur (sien afd. 2): Hoe kan prosesse in die buitekantoor van ’n dagblad beter bestuur word om die verwagte prestasie/gehalte te verkry? Voortdurende opleiding en die gebruik van die nuutste beskikbare tegnologie kan hiermee help.

Perspektief

  • Ontwikkel ’n ingesteldheid dat daar sommige aspekte van jou werk / die werklikheid is waaroor jy self beheer het (interne lokus van kontrole), maar dat daar ook magte van buite is waaroor ons nie beheer het nie. Verander en beïnvloed dit wat jy kan ten beste. Bestuur dit wat jy nié kan verander nie na die beste van jou vermoë.

Persoonlikheid

  • Tree positief selfhandhawend op.
  • Wees ontvanklik vir terugvoering en kritiek vanaf jou portuurgroep, lesers en toesighouers.
  • Beheer en hanteer spanning binne die perke van jou persoonlikheid: Identifiseer situasies en individue wat spanning aanwakker. Vermy dit of ontwikkel meganismes om dit te hanteer, kry berading indien nodig, ruim tyd in vir ontspanning.
  • Vermy perfeksieverlamming: Aanvaar jy sal soms foute maak en gebruik dit as ’n geleentheid vir verbetering.

 

Element 1. Die bepaling en behaling van doelwitte

Dié aspekte sluit onder meer in wat die deelnemers se persoonlike en professionele doelwitte is, hoe hulle dit bepaal en watter struikelblokke hulle ondervind om dit te bereik. Met vrae hieroor is ook probeer om vas te stel hoe hulle ’n balans handhaaf tussen die bereiking van hul persoonlike en professionele doelwitte. Vrae is ook hier gevra om te bepaal aan watter eienskappe onderskeidelik werk- en persoonlike doelwitte voldoen: of dit konkreet, spesifiek en realisties is, of die deelnemers die nodige hulpbronne het om dit te bereik, of die resultaat gemeet kan word en of die deelnemers ’n sperdatum het vir die bereiking van hul doelwitte.

Ontleding en bevindings

Uit die ontleding van die data wat in die vorm van antwoorde op dié vrae verkry is, is die volgende gevolgtrekkings gemaak:

  • Persoonlikheid en inherente waardes speel ’n wesenlike rol in die proses om sowel persoonlike as werkdoelwitte te bepaal, ongeag die voorskrifte wat in ’n werkplek mag geld.
  • Persoonlike en professionele doelwitte is dikwels vervleg. Dit dui op toewyding, maar kan ook tot uitbranding lei.
  • Die deelnemers se professionele doelwitte blyk in ’n groter mate te voldoen aan die gestelde vereistes wat in die literatuur geïdentifiseer word as wat die geval is met hul persoonlike doelwitte. Die grootste tekortkoming betreffende persoonlike doelwitte is dat daar nie altyd ’n sperdatum aan gekoppel is nie en die resultaat dikwels nie meetbaar is nie. Professionele doelwitte, daarenteen, is grootliks aan ’n sperdatum gekoppel en meetbaar.
  • Hoewel die deelnemers praktiese stappe doen in die proses om hul persoonlike doelwitte te bereik, belemmer werksdruk die bereiking daarvan omdat dit hulle van tyd en energie beroof.
  • ’n Beter balans tussen persoonlike en werkdoelwitte is nodig. Moontlike oplossings is doeltreffender tydsbestuur, prioritisering, delegering, kursusse, selfhelpboeke en berading.

Die deelnemers se antwoorde op al die vrae oor die verskillende aspekte van doelwitte staaf die feit dat al hierdie aspekte wat in die literatuur geïdentifiseer word, geldig is omdat die deelnemers aandag daaraan gee, hoewel doelwitte weens veral werk- en tydsdruk nie altyd behaal word nie. Die deelnemers voldoen dus nie altyd hier aan die vereistes vir die proses van goeie bestuur van persoonlike en werkdoelwitte nie.

Van die deelnemers beskryf die ineenstrengeling van hul persoonlike en werkdoelwitte soos volg:

Ek wil graag verder studeer in politieke wetenskap en kriminologie. Of dalk net die een of die ander. Dit was van my hoofvakke op universiteit en ek wou nog altyd verder studeer het. Ek dink ook dit kan my loopbaan help bevorder. Ek het dit bepaal omdat ek nog altyd in die twee vakgebiede belanggestel het en dit kan ’n aanwins vir my loopbaan as joernalis wees. (Deelnemer 1 (D1))

Om mense sover te kry om die koerant te koop, lees en eienaarskap van hul dorp of gebied te neem. Ek het dit bepaal omdat baie van ons lesers sedert 1994 vervreem begin voel het. Dis daarom nou veral nodig om mense rigting en leiding te probeer gee en hulle saam te snoer. Werk vir ’n behoorlike demokratiese bestel. My werk- en persoonlike doelwitte is baie dieselfde. (D3)

’n Ander deelnemer beskryf só hoe sy haar persoonlike doelwitte bereik:

Ek maak tyd vir dinge wat vir my belangrik en lekker is. Ek is nie te hard op myself nie en besef dat ’n mens jouself moet eerste stel. Werk is belangrik, maar ’n mens moet eerste na jouself omsien. Ek maak lysies van sekere persoonlike doelwitte en maak tyd daarvoor. Ná naweekwerk kry ek bv. tyd af by die werk en op dié dae doen ek goed waarvoor ek nie andersins tyd kry nie. Lees boeke wat ek wil lees, lees op die internet oor allerhande goed waaroor ek wonder, gaan stap met my hond, vind uit oor kursusse wat ek kan volg, werk in die tuin, ek spandeer tyd op my eie om te ontlaai – ek sal op my eie gaan koffie drink of vir myself braai. (D4)

Dieselfde deelnemer verwoord baie van die struikelblokke wat die deelnemers ervaar:

Soms is daar nie genoeg ure in die dag vir alles wat ’n mens wil doen nie. Ek dink dikwels is ’n mens te bang om kanse te waag en verval mens in ’n gemaksone in die pos waarin jy is. Op ’n dag tot dag-basis is iets wat eenvoudig klink – soos tegnologie – ’n reuse probleem. Jou 3G-kaart wat in ’n klein dorpie nie seinontvangs het nie, kan in ’n reuse probleem ontaard. Ander dae, veral in ’n buitekantoor breek meer as een groot storie op ’n dag – dan moet jy beplan en besluit wat die volgorde van belangrikheid is en daarvolgens werk. ’n Mens voel dikwels jy wil by alles gelyk uitkom, maar jy is net een mens en moet leer prioritiseer. (D4) 

Element 2. Beplanning

Beplanning is deel van die verwerkingsfase in die selfbestuursproses. Vrae is geformuleer om te toets of die deelnemers wel die geïdentifiseerde riglyne vir goeie beplanning volg en spesifiek hoe hulle dit doen. Die vrae het onder meer ingesluit wanneer en hoe die werkdag beplan word; hoeveel tyd elke dag aan beplanning bestee word; watter riglyne gevolg word om te besluit watter take eerste gedoen gaan word; watter na ’n latere stadium uitgestel kan word en watter heeltemal gelos kan word; asook hoeveel tyd aan watter take bestee sal word.

Ontleding en bevindings

Uit die antwoorde op die vrae oor beplanning blyk prioritisering op grond van ’n skerp nuussin danksy ervaring ’n kernvaardigheid te wees wat ’n buitekantoorjoernalis moet hê om alle aspekte van beplanning te bestuur. Die deelnemers se terugvoering in geheel op al die vrae hier bo bevestig die belangrikheid van die verskillende stappe betrokke by beplanning, soos uit die literatuur geïdentifiseer is.

Nuuswaardes speel die grootste rol in besluitneming en beplanning oor watter stories in ’n buitekantoor gedoen gaan word, en hoe vinnig en wanneer dit gedoen gaan word. Dieselfde faktore word ook oorweeg wanneer besluit word watter stories heeltemal gelos gaan word. Hierdie kriteria sluit in:

  • Nuuswaarde.
  • Aktualiteit.
  • Tydgebondenheid.
  • Emosionele trefkrag van die gebeure.
  • Interessantheid van die gebeure.

Hoewel minder deelnemers faktore soos impak en openbare belang spesifiek noem, beteken dit nie die ander neem dit nie ook in ag nie.

Behalwe die bostaande nuuswaardes speel die maklike bekombaarheid van inligting ook ’n rol in beplanningsbesluite: Hoe makliker bekombaar inligting is (oor gebeure wat sterk nuuswaarde het), hoe vinniger kan dit gedoen word. Dit sluit aan by navorsingsbevindings in tersaaklike literatuur dat joernaliste meer geneig is om te skryf oor gebeure wanneer inligting daaroor geredelik beskikbaar is, byvoorbeeld op sosiale platforms.

Die deelnemers gebruik die volgende hulpmiddels of vaardighede om te beplan:

  • Hou van ’n dagboek vir kort- en langtermynbeplanning.
  • Buigsaamheid.
  • Soms vra hulle raad by die nuusredakteur.

Deelnemers bestee die meeste tyd aan:

Alle aspekte van die nuusinsamelingsproses, veral die insameling van inligting en verifiëring van feite, asook die aflaai van foto’s wat geneem is. Dit is positief, omdat die insameling van nuus een van die kerntake van ’n buitekantoorjoernalis is.

Tekortkominge

  • Gebrekkige konsultasie met nuusredakteurs om te help met beplanning en prioritisering. Gereelde kommunikasie met die nuusredakteur om te help prioritiseer kan help om werksdruk te verlig en uitbranding te voorkom. Hoewel buitekantoorjoernaliste meestal ervare genoeg is om self te beplan en te prioritiseer, kan aanvaar word dat die nuusredakteur steeds ’n nuttige bydrae lewer om objektief te help prioritiseer. 
  • Sommige deelnemers bestee te min tyd aan veral voorafbeplanning en die byhou van dagboeke. Dit kan moontlik werkstres verhoog en produktiwiteit laat afneem, wat die gehalte van die produk (nuusberigte) moontlik kan benadeel. Gebrekkige beplanning kan ook byvoorbeeld daartoe lei dat werk onnodig gedoen word. Behoorlike beplanning bespaar tyd, byvoorbeeld deur te bel en vooraf ’n afspraak te maak eerder as om net iewers op te daag en dan is daar niemand nie, of op die verkeerde tyd en plek op te daag wanneer die besonderhede van ’n gebeurtenis nie vooraf bevestig is nie.

Element 3. Produktiwiteit

Die bestuur van produksie-aspekte is deel van die verwerkingsfase in die proses van selfbestuur. Vrae hieroor was daarop gemik om te toets hoe deelnemers die geïdentifiseerde aspekte van produktiwiteit bestuur. Dié vrae het onder meer ingesluit hoe onderbrekings bestuur word; hoe bestaande en inkomende dokumente bewaar word; watter kommunikasiemetodes (byvoorbeeld telefone of e-pos) onder watter omstandighede gebruik word; onder watter omstandighede take uitgestel word; en faktore wat veroorsaak dat die deelnemers oorlaai voel.

Ontleding en bevindings

Die antwoorde wat die deelnemers verskaf het, bevestig dat al die aspekte in die bestuur van produktiwiteit wat uit die literatuur geïdentifiseer is, tersaaklik en belangrik is: Hulle gee aandag aan al hierdie aspekte, hoewel hul hanteringsmeganismes soms gebrekkig is. Hulle voldoen dus nie altyd aan die ideaal wat in die literatuur voorgehou word oor hoe om ten beste te produseer deur die genoemde aspekte goed te bestuur nie.

Die deelnemers bestuur die volgende aspekte in die proses van produktiwiteit goed:

  • Onderbrekings: Hoewel dit die meeste van die deelnemers frustreer, het hulle unieke en doeltreffende meganismes om dit te bestuur, hoofsaaklik deur te herprioritiseer, uit te stel of te delegeer.
  • Metodes van kommunikasie: Hulle kon goed onderskei wanneer watter metodes van kommunikasie die toepaslikste onder watter omstandighede is en wissel vaardig tussen persoonlike, telefoniese en e-pos-kommunikasie.

Dié aspekte van produktiwiteit word minder doeltreffend bestuur:

  • Liassering van dokumente: Dis gebrekkig, waarskynlik weens tyd- en werksdruk in ’n buitekantoor. Omdat een persoon alles moet doen, is dit logies dat administratiewe werk agterweë gaan bly. ’n Kursus in vinnige en maklike liasseervaardighede kan dalk hier ’n oplossing wees, of bloot net om elke dag ’n bietjie tyd net aan liassering te bestee.
  • Uitstel van take: Dit kan dalk beter bestuur word deur sowel die emosionele as die praktiese redes daarvoor uit die weg te probeer ruim óf dit beter te leer hanteer. Beter tydsbestuur, ’n besoek aan ’n sielkundige of ’n persoonlike besoek aan lakse amptenare wat nie kommentaar stuur nie, mag dalk oplossings bied. Meer gereelde gesprekke met ’n toesighouer kan ook met prioritisering help.
  • Gevoelens van oorlading, oorweldiging: Die hoofrede hoekom joernaliste in buitekantore oorlaai voel, is dat dit gewoonlik een mens in ’n groot gebied is wat alle nuus moet dek. Dit veroorsaak dat die beskikbare nuus en werk dus altyd te veel is vir die beperkte tyd waarin dit gedoen moet word.

Uit die bostaande ontleding is dit duidelik dat produktiwiteit in die buitekantoor van ’n Suid-Afrikaanse dagblad bedreig word deur voortdurende onderbrekings, gebrekkige liassering, die uitstel van take en gevoelens van oorlading. Hoewel persoonlike omstandighede en persoonlikheidseienskappe ’n rol in al dié faktore kan speel, is die kernrede daarvoor die spesifieke omstandighede waarin ’n buitekantoorjoernalis hom of haar bevind.

So ’n joernalis is alleen verantwoordelik vir nuusdekking in ’n groot gebied vanuit ’n eenmankantoor waar geen administratiewe hulp bestaan om onderbrekings soos telefoonoproepe te kanaliseer of dokumente te liasseer nie. Weens die geweldige werklading omdat een persoon alles moet doen, word veral minder-belangrike take dikwels uitgestel. Die joernalis bly egter oorlaai voel, omdat hierdie take nie verdwyn nie. Die noodsaak om nuus ál vinniger aanlyn te produseer vir nuuswebwerwe te midde van personeelverminderings dra by tot die gevoel van oorlading in ’n reeds besige buitekantoor.

Daarom dan word die vermoë onder veral buitekantoorjoernaliste om te prioritiseer en te organiseer des te belangriker om dié gevoelens van oorlading te temper. Van die deelnemers het hul hantering van onderbrekings soos volg verwoord:

Ek praat maar met die mense wat my onderbreek as ek skryf, maar hou gesprekke kort. Soms sê ek vir mense ek kan nie praat nie, ek moet gaan. Ek leer om nee te sê. (D5)

Met instapkliënte of telefoonoproepe bepaal ek so gou moontlik die rede vir die oproep/besoek en verwys dit na die gepaste mense. As ek agterkom dit is iets wat ’n redelike tyd gaan neem, vra ek of ek die mense later kan terugskakel of vra dat hulle die storie kortliks e-pos. Ek sê dan wanneer ek sal kan terugskakel. (D4)

Die deelnemers het hul versuim om dokumente behoorlik op datum te hou en te liasseer soos volg verwoord: 

Daai is ’n taai vraag. Ek is nie baie pligsgetrou daarmee nie. Ek bêre wel my notaboeke waarin ek die nuus van die dag aanteken. Met groter stories, soos ondersoeke, moord ens. wat in die toekoms in die hof kan beland, maak ek ’n lêer oop vir elkeen. Ek sit tans met lêers van stories wat ek tot sover as 1984 aan gewerk het. (D2)

Liassering is ’n swak punt. Ek het ’n inmandjie, waarin ek dokumente sit wat langer gaan neem om op te volg. Dan maak ek elke dag stapels op my lessenaar. Die belangrikste dokumente lê reg langs my sleutelbord. (D4)

As ek te veel werk het en nie kan besluit watter storie die belangrikste is nie. As ek moeg en geïrriteerd is, as ek ongelukkig oor werksomstandighede is. (D5)

Van die deelnemers verwoord hul struikelblokke of gebrek daaraan soos volg:

Ek steur my nie juis aan struikelblokke nie. Ek kan op die ingewing van die oomblik ’n besluit neem oor wat om te doen en wat nie. (D2)

Die struikelblokke is dat daar nie meer die luukse bestaan om slegs op een storie te fokus nie omdat die webtuiste voortdurend “gevoer” moet word. Die redaksie het ook verklein en daarom raak die druk op elke joernalis meer. (D1)

Element 4. Beheer

Hierdie element gaan oor beheer binne die konteks van prestasie. Vrae hieroor was dus daarop gemik om vas te stel watter stappe die deelnemers doen om hul prestasie te bestuur. Dit vorm deel van die verwerkingsfase in die proses van selfbestuur. Die verskillende aspekte betrokke by beheer binne dié konteks is ook uit toepaslike literatuur geïdentifiseer.

Die vrae was daarop gemik om te bepaal:

  • Of die deelnemers weet wat die verwagte standaard van werk is wat hulle moet lewer en hoe hulle weet indien hulle nie daaraan voldoen nie.
  • Wat hulle doen om hul prestasie te verbeter indien hulle nie aan die verwagte standaard voldoen nie.
  • Watter geleenthede vir opleiding en die verkryging van beter tegnologie daar in hulle onderskeie maatskappye is om te help om hul prestasie te verbeter.

Ontleding en bevindings

Al die deelnemers weet baie goed watter standaard werk van hulle verwag word en erken nie maklik dat hulle nie daaraan voldoen nie. Hul hanteringsmeganismes indien hulle wel miskien nie aan die verwagte standaard voldoen nie, is gevolglik beperk en behels nie doelgerigte aksieplanne nie. Hul enigste plan van aksie is vaag: om ’n volgende keer nie dieselfde fout te herhaal nie en “beter te probeer doen”.

Hieruit kan afgelei word dat buitekantoorjoernaliste (waarskynlik weens hul vlak en jare van ervaring) oor die algemeen aan die verwagte standaarde voldoen. Dis moontlik wel ’n tekortkoming dat hulle weens hul traagheid om te erken dat hulle moontlik soms nie aan die standaarde voldoen nie, nie werklik goeie meganismes het om die gehalte daarvan te verbeter nie. Dit kan die gehalte van hul werk uiteindelik nadelig beïnvloed.

Die gebrekkige geleenthede vir opleiding vir spesifiek buitekantoorjoernaliste is ’n verdere tekortkoming, veral ten opsigte van opskerping oor die nuutste tegnologie wat dikwels in die joernalistieke omgewing, veral met betrekking tot aanlyn eise, benut word. 

Die deelnemers se antwoorde op die vrae oor beheer met betrekking tot standaarde bevestig die aangehaalde literatuur dat dit belangrik is om eerstens te weet wat die standaard is wat verwag word. In die literatuur word egter ook klem gelê op die noodsaaklikheid om te verbeter waar die verwagte standaard nie bereik word nie. Die deelnemers voldoen nie aan hierdie vereiste in die aangehaalde literatuur nie. Dit beteken egter nie dis onbelangrik nie; dit beteken juis buitekantoorjoernaliste behoort meer aandag daaraan te gee om te identifiseer waar hulle moontlik te kort skiet en dan doelgerigte stappe te doen om die gehalte van hul werk te verbeter.

Die deelnemers het vrae oor hul prestasie tipies soos volg beantwoord: 

Jip, ek weet wat van my verwag word en ek behaal daai standaard 98% van die tyd. (D2)

Dit word gewoonlik deurgegee tydens merietegesprekke. In my geval gebeur dit bitter selde (bykans nooit) dat ek nie aan verwagte standaard voldoen nie. (D1)

Element 5. Perspektief

Die definisie van perspektief binne die konteks van selfbestuur is spesifiek in watter mate individue voel hulle het beheer oor hul omgewing en dit wat met hulle gebeur. Perspektief is ’n belangrike inset in die proses van selfbestuur. Vrae is hieroor opgestel om te toets watter stappe joernaliste volg om hul perspektief doeltreffend te bestuur. Van die vrae was daarop gemik om vas te stel oor watter aspekte hulle voel hulle beheer het en hoe hulle hierdie aspekte bestuur. Deelnemers is ook gevra hoe take bestuur word indien hulle voel hulle het weinig of geen beheer oor hul omgewing nie.

Ontleding en bevindings

Al die deelnemers het aangedui dat daar aspekte in hul omgewing is waaroor hulle in ’n mindere of meerdere mate beheer het, maar ook aspekte waaroor hulle geen beheer het nie. 

Vyf deelnemers meen hulle het beheer oor die beplanning van stories: wat, wanneer en hoe hulle dit gaan doen. Hulle laat egter ruimte vir herbeplanning en herprioritisering waar nodig.

Die deelnemers bestuur aspekte in hul omgewing waaroor hulle meen hulle het wel beheer, soos volg:

  • Beplanning.
  • Wees ingelig oor wat in die omgewing gebeur.
  • Bestuur dit wat gebeur.
  • Prioritisering.
  • Steun op vorige ervaring.
  • Vra raad by nuusredakteur (selde).

Van die deelnemers verwoord hul perspektief op ’n veranderende omgewing soos volg:

Jy probeer maar wat jy kan. Jy doen alles moontlik en as dinge steeds nie uitwerk nie, haal jy diep asem, rook ’n sigaret en probeer jou nie te veel kwel oor dinge waaroor jy nie beheer het nie. (D4)

Ek voel darem meestal ek het beheer. Die aard van die beroep is dat jy heeltyd wag vir goed wat gebeur en mens leer om daarby aan te pas. (D7)

Ek sukkel maar aan, ek gee nie op nie. Soms neem dit meer tyd in beslag om ’n storie te skryf, soms besef ek dis beter dat ek nie alles kan beheer nie. Daar is ’n doel daarmee. Ek probeer die goeie in ’n situasie raaksien. (D5)

Ek doen net wat ek kan. (D3)

Die patroon hier is dat die meeste deelnemers deur beplanning (meestal in dagboeke) beheer van hul omgewing neem sover dit moontlik is. Net een meen hy is altyd in beheer van alles. Prioritisering en om ingelig te bly is nog meganismes om ’n onvoorspelbare omgewing te hanteer. Ervaring help ook, maar buitekantoorjoernaliste kan meer steun op nuusredakteurs vir raad om aspekte waaroor hulle nie beheer het nie, te bestuur. Net een het aangedui dat hy dit doen.

Die deelnemers se antwoorde oor hul perspektief op verandering staaf die literatuur dat dit ’n belangrike aspek van selfbestuur is: Al die deelnemers bestuur hul veranderende omgewing doelgerig en is deeglik bewus van aspekte waaroor hulle beheer het en dit waaroor hulle nie beheer het nie.

Element 6. Persoonlikheid

Persoonlikheid is een van die insette in die proses van selfbestuur. Persoonlikheid is uiteraard ’n komplekse konsep.

Ontleding en bevindings

Die meeste deelnemers pas die volgende ooreenstemmende metodes toe om selfhandhawend op te tree:

  • Hou feite en inligting gereed om hulself te kan verdedig.
  • Tree in ooreenstemming met hul beginsels op.
  • Probeer om hul emosies uit ’n situasie te verwyder.

Die deelnemers ondervind almal meestal die volgende struikelblokke om selfhandhawend op te tree:

  • Sukkel om nee te sê.
  • Oordrewe pligsbesef.
  • Soeke na goedkeuring.
  • Vrese om ander teleur te stel.

Een van die deelnemers vat struikelblokke wat die meeste van hulle ondervind, soos volg saam:

Ek sukkel om nee te sê, vir lesers of base, omdat ek nie daarvan hou om iemand teleur te stel nie. Ek sal myself dus eerder onder druk plaas en so hoop dat almal aan die anderkant met ’n glimlag uitstap. ’n Leser moet omdraai en seg, dit was nou lekker om so goed deur die publikasie gehelp te word. (D2)

Die meeste deelnemers neem grondige kritiek ter harte en probeer verbeter, maar steur hulle meestal nie aan onregverdige kritiek nie. Die hantering van kritiek blyk ook sterk gekoppel te wees aan persoonlike karaktertrekke, omdat die deelnemers uiteenlopende reaksies en hanteringsmeganismes aandui. Vir sommige is kritiek altyd swaar, omdat hulle lesers tevrede wil hou en nie onregverdig behandel wil word nie.

Een deelnemer verwoord sy reaksie op en hantering van kritiek soos volg:

Dit hang af van wie die kritiek kom. Voorstelle oor hoe om ’n moeilike storie aan te pak, word altyd verwelkom. Gegronde kritiek gebruik ek om ’n taak ’n volgende keer beter uit te voer. Kommentare van die lesers neem ek in ag as dit geldig is. Ongegronde kritiek ignoreer ek en beweeg aan. Ek is te besig om my te veel daaroor te kwel. (D4)

Hoewel die deelnemers hier individuele metodes het om situasies of persone te hanteer wat spanning aanwakker, is die vernaamste hanteringsmeganisme om hulle te ignoreer of kontak te beperk (vermyding). Indien kontak wel noodsaaklik is, word dit so kort moontlik gehou. Kursusse, berading of gonsgroepe om doeltreffende metodes te vind om spanningsvolle situasies of mense te hanteer wanneer dit moet, kan voordelig wees.

Van die deelnemers verwoord dit so:

Ek vermy daardie persone en tree nie in lang gesprekke nie. Ek sal toegee sodat hulle my kan uitlos. (D5)

Ek dink nie as joernalis kan mens situasies en persone vermy wat spanning aanwakker nie. Mens leer om daarmee te cope. (D1)

Dit blyk dat deelnemers sukkel om tyd vir ontspanning te vind weens werksdruk wat verhoog word deur toewyding en huiwering om te delegeer. Buitekantoorjoernaliste is jaloers op hul gebiede en plaas dikwels ekstra druk op hulself omdat hulle nie stories in hul gebied wil afstaan nie. Die meeste van die deelnemers maak egter wel op verskillende maniere planne om te ontspan. Kursusse of boeke oor lewensvaardighede en hoe om ’n balans tussen jou werk- en persoonlike lewe te vind, asook hulp om beter te leer organiseer en beplan, kan buitekantoorjoernaliste dalk help om meer tyd te vind vir ontspanning en om “af te skakel”. 

Van die deelnemers verwoord die balans (of gebrek daaraan) tussen werk en ontspanning soos volg:

Liewe donner! Wat’s dit? Ek is lief vir uitkamp en gelukkig bly ek naby aan die Krugerwildtuin. Dit is dus soms baie lekker om sommer op ’n Vrydagoggend die karavaan te pak, kamp op te slaan in die wildtuin en sommer van daar af te werk. My kantoor is mos waar my skootrekenaar is. (D2)

Dis iets waarmee ek nie goed is nie. Danksy my verloofde kan ek oor naweke soms besluit om my foon af te skakel. (D4)

Vier van die agt deelnemers vermy glad nie stories omdat hulle bang is hulle kan dit nie perfek doen nie. Die ander helfte doen dit wel, maar wanneer hulle tog iets moet doen oor moeilike onderwerpe of onderwerpe waarvan hulle geen kennis het nie, sal hulle kenners raadpleeg of die taak in kleiner take opdeel. Dit beaam dus die stelling in die literatuur dat mense take dikwels vermy omdat hulle vrees hulle maak foute, maar dit lyk wel of buitekantoorjoernaliste weens eise en noodwendighede van hul werk maniere vind om dit te oorkom. Hulle voldoen dus aan die vereiste in die literatuur om hierdie aspek van selfbestuur goed te bemeester.

Van die deelnemers verwoord hul ervaring met perfeksieverlamming soos volg: 

Soms (stel ek uit), vir ’n paar uur of wat. Maar uiteindelik sal ek ’n moeilike taak in dele probeer opdeel en een aspek op ’n slag takel. Goed waarmee ek nie goed is nie, soos om wiskundige berekeninge te doen, sou ek graag wou vermy, maar kan ek uiteraard nie. Ek het altyd ’n raadslid/iemand wat wiskunde kan doen vir wie ek kan vra om te help om bv. persentasies van groot bedrae uit te werk of om vir my te verduidelik hoe iets werk. (D4)

Ja, ek sal nie oor sport en kerksake skryf nie. Ek het geen kennis of belangstelling nie en ek weet ek sal foute maak. (D5)

Die deelnemers se terugvoering oor die verskillende persoonlikheidsaspekte betrokke by selfbestuur beaam die literatuur dat dié aspekte ’n belangrike rol in selfbestuur speel. Die deelnemers voldoen egter nie in alle opsigte aan die standaarde wat in die teorie gestel word ten opsigte van die doeltreffende bestuur van die persoonlikheidsaspekte wat deel van hierdie studie vorm nie.

Die nodigheid van professionele hulp soos berading of sessies by ’n sielkundige om aspekte van die persoonlikheid te bestuur, is duidelik by al die deelnemers omdat hulle soms worstel om hulself binne ’n uitdagende omgewing te bestuur. Die feit dat nog net twee van die deelnemers dit gedoen het, is ’n tekortkoming. Buitekantoorjoernaliste behoort meer gereeld gebruik te maak van professionele hulp om hulself beter te bestuur en die gehalte van hul werk sodoende te verbeter.

Figuur 4. Selfbestuur as ’n proses

5.4.1.2 Konstruk 2: Saamstel van ’n kontaklys

Vrae hieroor was daarop gemik om vas te stel watter stappe die deelnemers volg in die proses om ’n kontaklys saam te stel, met ander woorde watter insette hulle benut en hoe hulle dit verwerk. Die vrae was ook, meer spesifiek, daarop gemik om vas te stel of die deelnemers ’n kontaklys het, hoe omvattend dit is, hoe dit opgebou is en hoe dit bygehou en gestoor word.

Ontleding en bevindings

Al die deelnemers het uitgebreide kontaklyste (as uitset) wat oor jare opgestel is. Dit bevat duisende nommers van verskillende mense en instansies.

Die deelnemers is deeglik bewus van die belangrikheid van ’n kontaklys en hou dit so volledig en op datum soos moontlik. Hulle doen dit deur kontakbesonderhede te versamel uit ’n wye verskeidenheid situasies en geleenthede waarmee hulle in hul dagtake te doen kry. Weens tydsbeperkinge raak hulle egter soms agter. ’n Goeie gewoonte hier kan wees om elke dag doelbewus vyf minute opsy te sit net om nuwe kontaknommers te dokumenteer.

Selfone is naas rekenaars die gewildste metode om kontaknommers te stoor. Net twee van die deelnemers stoor kontaknommers in hardekopie. Hier is ’n tekortkoming: Meer behoort dit ook in hardekopie by te hou, want tegnologie kan faal en toerusting kan gesteel word, dan is alles verlore. Veral in afgeleë gebiede op die platteland is kragtoevoer boonop onbetroubaar en ’n rekenaar se battery het net ’n beperkte leeftyd voordat dit weer (met elektrisiteit) gelaai moet word. 

Hiermee word die aanname in die literatuurstudie dat die saamstel van ’n kontaklys een van die kerntake van ’n buitekantoorjoernalis se dagtaak is, bevestig. Die meeste deelnemers doen ook moeite om hierdie taak goed te verrig. Hoewel hier nie ernstige tekortkominge is nie, is daar ruimte vir verbetering, naamlik om maniere te vind om kontakbesonderhede nog beter te dokumenteer en dalk ook in ’n formaat waar dit nie deur tegnologiese haakplekke verlore kan raak nie.

Figuur 5. Saamstel van ’n kontaklys as proses

5.4.1.3 Konstruk 3: Nuusgenerering

Dié kerntaak/proses behels verskeie aktiwiteite wat uitgevoer word om inligting/insette te verkry wat uiteindelik verwerk word om ’n nuusberig te skryf. Dit bestaan uit twee subprosesse, naamlik nuusseleksie en nuusinsameling. Nuusseleksie is die keuse waaroor geskryf gaan word en nuusinsameling is die versameling van inligting om oor die gekose gebeure te kan berig.

Element 1. Nuusseleksie

Uit Strömbäck, Karlsson en Hopmann (2012:718) se studie onder 1 187 Sweedse joernaliste blyk verskillende insette nodig te wees voordat besluit word waaroor berig gaan word:

  • Nuuswenke van verskillende bronne.
  • Mediaverklarings.
  • Nuus waaroor reeds in ander media berig is.
  • Onderwerpe wat op sosiale platforms (aanlyn) bespreek word.
  • Beskikbare foto’s.
  • Video’s en grafika oor nuusgebeure of die waarskynlikheid dat dit verkry kan word.
  • Beskikbare vervoer en toerusting om die nuus in te samel.
  • Toegang tot bronne wat noodsaaklike inligting vir berigte kan verskaf.

Strömbäck e.a. (2012:718) identifiseer ook verskeie faktore wat oorweeg word in die besluitnemingsproses oor watter van die beskikbare gebeure (insette) eindelik in ’n nuusberig verwerk gaan word.

Dié faktore wat deel van die verwerkingsfase in die proses van nuusseleksie (vgl. Figuur 6) vorm, sluit in:

  • Hoe meer eksklusief ’n berig is, hoe groter die kans dat dit gepak gaan word. 
  • Hoe makliker en geriefliker dit is om inligting oor ’n berig te kry, deur middel van byvoorbeeld mediaverklarings of -konferensies, hoe groter die kans dat daaroor geskryf gaan word.
  • Hoe meer aansien of bekendheid die nuusonderwerp geniet, hoe groter die kans dat dit voorkeur sal geniet.
  • Hoe meer geredelik nuus beskikbaar is en op sosiale platforms (aanlyn) bespreek word, hoe groter die kans dat daaroor geskryf gaan word.

Vrae was daarop gemik om te toets of die aspekte hier bo ook ’n rol speel by buitekantoorjoernaliste se nuusseleksieproses, en waar moontlike tekortkominge bestaan.

Ontleding en bevindings

Buitekantoorjoernaliste se vernaamste nuusbronne is in die digitale era steeds baie tradisioneel (polisie, gemeenskap, politici).

Een deelnemer verwoord dit so:

Die beste wenke kom van kontakte met wie ek al jare ’n pad stap. Dan is regeringsdepartemente ook ’n bron van nuuswenke. Politieke partye en belanghebbendes in die landboubedryf. Ek kry ook baie nuuswenke van mense wat op werkselfoon en landlyn bel. (D1)

Dit bevestig dat tradisionele nuuswaardes en nuusbeginsels steeds van toepassing is, al het die platforms waarop die nuus versprei, verander.

Die feit dat baie nuus uit die gemeenskap self ontvang word, dui ook daarop dat gemeenskappe nuus soek oor kwessies wat hulle raak. Hulle is betrokke en verskaf daarom wenke aan die joernaliste. Dit bevestig die gehaltebeginsel dat van joernaliste verwag word om ook te reageer op die behoeftes van hul gemeenskappe en ’n diens as waghonde oor die gemeenskap te lewer. Die feit dat die deelnemers in hierdie studie steeds sterk op tradisionele nuusbronne fokus, staaf ook die bevindings van Van Leuven, Deprez en Raeymaeckers (2014:552) se studie waarin vasgestel is dat Belgiese joernaliste steeds hoofsaaklik op amptelike bronne steun om nuus bekend te maak hoewel niehoofstroombronne en sosiale media gereeld as bykomende bronne en kontakpunte gebruik word. Wanneer deelnemers self nuus insamel/soek, doen hulle dit meestal reaktief. Hulle hou dop waaroor ander media berig en soek op sosiale media vir stories. Dit staaf Strömbäck e.a. (2012:718) se bevindings in hul studie onder duisende Sweedse joernaliste dat sosiale media ’n belangrike bron van nuus is.

Dit skep egter ook tekortkominge, want in hierdie studie noem minder as die helfte van die deelnemers dat hulle unieke stories uitsnuffel deur bloot oplettend te wees oor wat in hul omgewing gebeur en waaroor mense praat. Nog ’n tekortkoming hier is dat so min van hulle noem dat hulle geleenthede of funksies bywoon met die doel om dalk daar unieke stories te vind.

Een van die deelnemers beskryf dit so:

Nuus is oral rondom ’n mens. Daar is so baie nuus, ek kom nie by als uit nie en moet gedurig besluit wat die belangrikste is. Sosiale media soos Twitter, Facebook en WhatsApp-groepe. Ook plaaslike polisiëringforum en plaaslike koerante. (D3)

Hieruit kan afgelei word dat die groot aanbod van nuus wat reeds in ander media en die sosiale media beskikbaar is, die nadeel het dat dit joernaliste “lui” maak om unieke stories te vind. Andersyds is daar dikwels druk van nuusbestuurders dat buitekantoorjoernaliste ook moet berig oor dinge waaroor ander media berig. ’n Goeie middeweg sou dalk wees om belangrike en groot gebeure te dek waaroor ander media ook berig, maar ook meer moeite te doen om unieke stories te skryf wat spesifiek tot die lesers van die buitekantoorjoernalis sal spreek. Dis om hierdie rede ook belangrik om jou lesers te ken en te weet watter unieke stories tot hulle sal spreek.

Dit blyk dat die sterkste oorweging onder deelnemers wanneer hulle besluit waaroor hulle gaan berig, dié dinge is wat hulle meen vir hul lesers interessant en belangrik is om te weet. Die impak wat gebeure op veral die lesers het, is dus die belangrikste oorweging. Dit bevestig weer eens die belangrikheid van ’n goeie kennis van die lesers. Nuus is immers ’n diens wat in mense se behoeftes moet voorsien, maar aan die ander kant is dit soms ook die taak van die joernalis om mense op te voed en in te lig oor belangrike ander kwessies wat hulle nie noodwendig direk raak nie.

Die volgende faktore speel wel ’n rol wanneer die deelnemers besluit oor watter van die nuusgebeure geskryf gaan word: eksklusiwiteit, gemak en gerief om die inligting te kry, aansien of bekendheid van die nuusonderwerp, asook die beskikbaarheid en bespreking van gebeure op sosiale platforms. Eksklusiwiteit word egter ’n toenemend minder haalbare ideaal weens die onmiddellike aard van digitale media. Dis gevolglik nou minder bepalend in nuusbesluite as vroeër.

Die deelnemers staaf in hierdie opsig dus ook die bevindings van Strömbäck e.a. (2012:718), behalwe dat eksklusiwiteit nie meer so ’n belangrike rol as tevore speel nie weens die onmiddellikheid en alomteenwoordigheid van aanlyn nuus en platforms. Die voorafbeskikbaarheid van visuele elemente het ook nie ’n groot invloed op die deelnemers se besluit waaroor geskryf gaan word soos die literatuur dit stel nie. Dit mag die besluit wel in sommige gevalle in ’n mate beïnvloed, maar die nuuswaarde self is belangriker – visuele elemente kan wel agterna gekry word.

Uit die ontleding hier bo blyk dit dat die deelnemers die meeste van die beginsels oor nuusseleksie soos in die literatuur geïdentifiseer, handhaaf, met die uitsondering dat eksklusiwiteit nie meer so ’n belangrike rol speel nie en die voorafbeskikbaarheid van visuele materiaal soos foto’s en grafika ook nie bepalend is nie. 

Figuur 6. Proses van nuusseleksie as eerste subproses van nuusgenerering

Element 2. Nuusinsameling

Die nuusinsamelingsproses begin waar die proses van nuusseleksie geëindig het, met die gekose gebeure waaroor geskryf gaan word as eerste inset. Die ander insette is alles wat nodig is om die nuus in te samel: voertuig, rekenaar, kamera, video-apparaat, skryftoerusting en notaboeke of ’n diktafoon en die joernalis se kommunikasie- en taalvaardighede. Al hierdie komponente word gebruik in die verwerkingsproses deur na die bron van nuus te ry of hom/hulle te bel, onderhoude met hulle te voer en die genoemde toerusting te gebruik om die onderhoud te dokumenteer. Die resultaat of uitset van hierdie proses is al die ingesamelde inligting soos verkry deur die onderhoudvoering en visuele komponente.

Vrae hieroor was daarop gemik om vas te stel watter van die (fisiese) hulpmiddels hier bo en ander waaroor dalk nie gevra is nie, asook joernalistieke vaardighede, deelnemers gebruik as insette in die proses van nuusinsameling. Hierdie vaardighede, soos deelnemers se oorredingsvermoë, kommunikasievaardighede, onderhoudvoering, aandagtige luister en die akkurate dokumentering van inligting, speel ook ’n belangrike rol in die verwerking van die insette om eindelik genoeg inligting en visuele elemente te hê vir die berig wat geskryf moet word. 

Ontleding en bevindings 

Die bevindings van Van Leuven e.a. (2014:552) dat joernaliste steeds tradisionele metodes gebruik om nuus in te samel en dit met nuwer metodes soos sosiale media aanvul, word gestaaf in die deelnemers in hierdie studie se antwoorde dat hulle selfone, kameras, soms diktafone, voertuie, notaboeke en ander skryfbehoeftes, maar ook die internet en video-apparaat, gebruik om nuus in te samel.

Die deelnemers gebruik dus ’n wye verskeidenheid tradisionele én digitaalgedrewe toerusting om nuus in te samel. Hieruit blyk dit dat hulle goed toegerus is en meestal alles gebruik: Al die deelnemers gebruik selfone, die internet, rekenaars, kameras, voertuie, notaboeke en skryfbehoeftes. Net drie gebruik egter ’n diktafoon om gesprekke op te neem en ses uit die sewe neem video’s.

Die deelnemers staaf ook die nodigheid van die geïdentifiseerde vaardighede deur te bevestig hulle gebruik dít en ander vaardighede om inligting in te samel. 

’n Tekortkoming hier is dat die deelnemers dalk meer aktief kan fokus op emosionele vaardighede om daardie elemente uit stories te kan haal, want dit sal die impak op lesers verhoog. Soos vroeër uitgewys, is impak op lesers ’n uiters belangrike faktor in die besluit oor watter nuus gepak gaan word.

Figuur 7. Proses van nuusinsameling as tweede subproses van nuusgenerering 

5.4.1.4 Konstruk 4: Skryf van nuus

Die proses om nuus te skryf, behels die volgende, in hierdie volgorde (Scanlan 2000:60–103): 

Hierdie aktiwiteite word in die volgende volgorde voorgestel (in die aangehaalde literatuur hier bo):

  • Skryf ’n eerste weergawe uit die ingesamelde inligting en verifieer dan feite waaroor nog twyfel bestaan.
  • Herskryf die berig sodat dit die regte voorgeskrewe lengte is.
  • Lees die berig nog ’n keer deur om seker te maak dit vloei logies en dat dit ’n volledige, billike en duidelike weergawe van die nuusgebeurtenis is.
  • Kontroleer spelling, punktuasie, grammatika en styl weer vir oulaas. 

Maak seker al die bogenoemde aktiwiteite word binne ’n tydraamwerk voltooi wat aan die vereiste spertyd voldoen.

Vrae hieroor is geformuleer om te probeer vasstel of die deelnemers wel ’n spesifieke, stapsgewyse metode volg wanneer hulle berigte skryf, en of dit ooreenstem met Scanlan (2000) se voorgestelde stappe hier bo.

Ontleding en bevindings 

Die deelnemers se terugvoering bevestig die beginsels oor die skryf van nuus soos uiteengesit in die literatuur waarna hier bo verwys word. 

Al die deelnemers weet daar is ten minste ’n plan nodig voordat ’n berig geskryf word; die meeste van hulle weet hoe die struktuur van ’n nuusberig behoort te lyk en gehoorsaam dit origens. Hoewel die deelnemers elk hul eie maniere gevind het om berigte te struktureer en belangrike komponente en inleidingsparagrawe te identifiseer, bly die gewildste steeds om te begin met die belangrikste of interessantste deel van ’n storie en dan af te werk na minder belangrike aspekte. Dit lyk dus of die beproefde omgekeerde driehoek dus meestal steeds van toepassing is, en staaf weer eens die stelling deurdat dieselfde beginsels vir gehalte in joernalistiek nog geld, ongeag nuwe platforms wat verskyn (Schoenbach en Van der Wuff 2014a:445). Nog ’n metode wat hulle toepas, is om die berig chronologies te orden.

Die deelnemers is egter ook buigsaam ten opsigte van die struktuur van berigte. Dié buigsaamheid word toegepas wanneer verskillende soorte stories (harde nuus vs. menslike nuus) geskryf word. Dit is egter ook duidelik dat beroepservaring van skryf in die joernalistiek aangevul word met individuele voorkeure en planne om eindelik ’n goedgeskrewe berig te lewer. Hoewel die deelnemers Scanlan (2000) se geïdentifiseerde proses vir die skryf van berigte volg, doen hulle die stappe nie noodwendig in die voorgestelde volgorde nie.

’n Nadeel van die spoed waarteen nuus deesdae vir verskillende platforms aanlyn geproduseer moet word, is egter dat Scanlan (2000) se voorgestelde herskryf van die eie berig dikwels nie realiseer nie, omdat daar nie genoeg tyd is nie. Dit strook met aannames in die teorie dat die omvang en spoed van nuus in die sogenaamde nuwe media uitdagings vir gehalte skep. 

Daar kan dus tot die gevolgtrekking gekom word dat goeie beginsels vir die produksie van gehalteskryfwerk wat in die literatuur voorgeskryf word, steeds geld en steeds toegepas word, maar dat tydsbeperkinge weens druk om aanlyn te produseer die proses kan verhaas en moontlik tot meer foute en gevolglik werk van ’n laer gehalte kan lei.

Die deelnemers gebruik egter ook baie kreatiewe en interessante metodes wat nie in die literatuur beskryf word nie, maar wat as nuttige opleidingswenke vir alle joernaliste gebruik kan word. Een deelnemer het byvoorbeeld ’n baie interessante metode, naamlik die sogenaamde duisendpootmetode, beskryf. Hiervolgens is die kop van die duisendpoot die inleidingsparagraaf, in die nekgedeelte word die inleidingsparagraaf verduidelik en net onder die nek word dié verduideliking verder uitgebou. Hierna, in die duisendpoot se middellyf, word die belangrikste segmente van die storie uitgelig, in die “bene” word hierdie elemente vereenvoudig en in die voete eindig die storie met iets wat skakel met die inleidingsparagraaf.

Indien gekyk word na die prosesse wat hulle volg om berigte te skryf, kan tot die gevolgtrekking gekom word dat dit deeglike, voldoende prosesse is om berigte van goeie gehalte te verseker. Die beginsels in die tersaaklike literatuur word dus bevestig en dit voldoen ook grootliks aan die standaarde of vereistes wat in die literatuur gestel word.

Figuur 8. Proses van skryf van nuus

5.4.1.5 Konstruk 5: Voortdurende kommunikasie met die nuusredakteur

Voortdurende kommunikasie met die toesighouer van ’n buitekantoorjoernalis help met die stel van doelwitte, beplanning en herevaluering van die nuusproses. Die fokus hier val veral op die verwerkingsfase van die proses. Dit behels tipies bespreking en beplanning rondom die geselekteerde/geïdentifiseerde gebeure (die inset) waaroor geskryf gaan word. Hier is die uitset dan die nuuslys waarop spertye vir spesifieke platforms aangedui word en die joernalis se finale kennisgewing aan die nuusredakteur wanneer ’n berig voltooi en op die stelsel gelaai is. 

Vrae hieroor was spesifiek daarop gemik om te toets of daar goeie samewerking en kommunikasie tussen deelnemers en hul direkte toesighouers is, waaroor hulle kommunikeer en hoe gereeld hierdie kommunikasie plaasvind.

Ontleding en bevindings

Die meeste van die deelnemers praat gereeld oor die volgende aspekte met hul nuusredakteurs:

  • Soggens vroeg oor watter stories gedoen gaan word en die inhoud daarvan.
  • Waaraan voorkeur gegee gaan word.
  • Al die deelnemers laat weet wanneer ’n nuusberig nie meer gaan realiseer nie.
  • Wanneer daar groot, nuwe verwikkelinge met bestaande stories is of belangrike nuwe stories inkom.
  • Sodra ’n nuusberig klaar geskryf en deurgestuur is. Oor die algemeen laat weet buitekantoorjoernaliste hul nuusredakteur direk dat ’n berig gestuur is, maar in die minderheid gevalle waar hulle dit nie doen nie, is daar stelsels wat dit moontlik maak vir die nuusredakteur om self dop te hou wanneer berigte gestuur word. Dis egter wenslik om die nuusredakteur steeds te laat weet, selfs al is daar stelsels. Dit bespaar tyd en maak ook voorsiening vir wanneer die stelsel faal en ’n berig dalk verlore raak. Indien die nuusredakteur weet dis wel gestuur, kan die verlore storie dan gevind word pleks daarvan dat niemand besef ’n storie wat gestuur is, het nooit sy bestemming bereik nie.
  • Soms wanneer bystand verkry moet word vir die neem van foto’s en video’s.

Die deelnemers neem meestal self besluite oor die volgende:

  • Watter visuele elemente by berigte aangebied gaan word, soos foto’s, grafika en videomateriaal.
  • Watter berigte wanneer vir watter platforms aangebied word. Hoewel alle buitekantoorjoernaliste daagliks hieroor moet besluit, neem vier uit die sewe deelnemers self besluite hieroor sonder om die nuusredakteur te raadpleeg.

Tekortkominge in kommunikasie met die deelnemers se toesighouers is dat daar nie altyd tyd vir kommunikasie is nie namate nuuskantore kleiner word en die druk om digitaal/aanlyn meer te produseer al hoe groter word. So kan gehalte verlore gaan, omdat daar nie altyd deeglik besin word oor inhoud en invalshoeke van stories nie. Juis die onafhanklike aard van buitekantore skep die gevaar dat die ervare deelnemers wat hulself meestal bestuur, nie altyd genoeg met die nuusredakteur kommunikeer nie en dan vervreem raak van die eise, kultuur en behoeftes van die hoofkantoor. 

Origens bevestig die deelnemers die beginsel in die literatuur dat kommunikasie met die nuushoof ’n belangrike proses is om gehalteberiggewing te verseker – dis dan ook waarom hulle oor alle belangrike aspekte met die nuusredakteur praat. Hul onafhanklikheid kan egter ’n gevaar inhou deurdat hulle so selfstandig kan word dat hulle later selfs nalaat om oor belangrike aspekte met die nuusredakteur te kommunikeer. ’n Wenk hier mag wees dat nuusredakteurs en buitekantoorjoernaliste wel ’n vaste reëling tref om daagliks minstens een keer te kommunikeer, dat die nuusredakteur van tyd tot tyd ook buitekantore besoek en buitekantoorjoernaliste ook sporadies besoek gaan aflê by die hoofkantoor. 

Een van die deelnemers beskryf kommunikasie met die nuusredakteur soos volg:

Ja, ek en my nuusredakteur praat daagliks. Ek verkies om ten minste een keer per dag telefonies met hom te praat – ’n telefoongesprek is dikwels vinniger en duideliker as twee of drie e-posse. Soggens sal ons praat oor wat ek vir die dag het en of hy iets het wat ek moet opvolg. As minder belangrike stories deur die dag gebeur, sal ek dit bloot op die nuuslys gaan byvoeg en hom nie noodwendig daaroor bel nie, maar met groot gebeure, of iets wat ’n moontlike hoofstorie kan wees, bel ek hom dadelik. As ’n reël sou ek hom bel wanneer ek op pad is na ’n misdaad- of hardenuusstorie, en ek sal hom weer van die toneel af bel om die kruks van die storie vir hom te gee, sodat hy dit solank op die nuuslys kan byvoeg of die storie na voor skuif. Hy sal dikwels raad gee oor inligting wat ek moet kry of die soort foto’s wat ons by die storie wil hê. Ek werk dan daarvolgens. (D4)

Figuur 9. Voortdurende kommunikasie met die nuusredakteur as ’n proses

5.4.2 Konsep 2: Hulpmiddele

Hulpmiddele (insette) afkomstig uit die mikro- of taakomgewing, asook die intermediêre omgewing, wat joernaliste nodig het om hul werk behoorlik te kan doen, is uit tersaaklike literatuur geïdentifiseer (Deuze 2005:447; Scanlan 2006:6–12; Kovach en Rosenstiel 2007; Swanepoel 2012:1, 69, 88, 89–96,178; Ojetimi 2012; Batsible 2014:37–41; Nikuken 2014:869–72; Schweiger en Urban 2014:823; Tweissi e.a. 2015:55–78; Manda 2015:156–7; Pihl-Thingvad 2015:394–411 en Press Council 2016): 

  • Diensvoorwaardes (mikro-omgewing). Diensvoorwaardes behoort op skrif beskikbaar te wees in die vorm van dokumente soos aanstellingskontrakte en kritieke-prestasie-areas (KPA’s).
  • Voldoende infrastruktuur (mikro- en markomgewing). Dit sluit hulpbronne in soos ’n rekenaar, telefoon, kamera, skryfbehoeftes soos notaboeke en penne, ’n kantoor en toegang tot die internet.
  • Goeie samewerking, kommunikasie en terugvoering tussen verskillende vlakke van bestuur en met personeel (mikro-omgewing). Vir die buitekantoorjoernalis beteken dit daar moet ’n goeie werkverhouding en kommunikasie wees met kollegas by die hoofkantoor – sy lynhoof (nuusredakteur), die redakteur, nagnuusredakteur, nagredakteur en redigeerders. Kommunikasie met administratiewe personeel soos dié van die rekenaar- en voertuigafdelings moet ook deurgaans moontlik wees om infrastruktuurprobleme te kan uitstryk. Hierdie inset sluit aan by die konstruk/kerntaak, naamlik voortdurende kommunikasie met die nuusredakteur.

Met vrae oor hierdie aspekte is probeer om vas te stel of buitekantoorjoernaliste wel genoeg van dié insette het om werk van goeie gehalte te lewer. Die resultate uit antwoorde wat die agt (aanvanklike) deelnemers verskaf het, word hier onder in in tabelvorm uiteengesit.

Tabel 2. Hulpmiddele wat joernaliste nodig het

Elemente/insette

Ja

Nee

Probleme

Diensvoorwaardes

7

1

Tekortkoming: Een deelnemer het geen diensvoorwaardes nie.

Infrastruktuur

8

1

Tekortkoming: Een deelnemer werk uit sy kar, het geen kantoor nie, ook nie by die huis nie. Hy het egter al die ander infrastruktuur soos ’n rekenaar, selfoon, internettoegang en ’n voertuig om sy werk te kan doen.

Voldoende kommunikasie met toesighouer/ nuusredakteur

3

5

Tekortkoming: Hoewel al die deelnemers voldoende toerusting het om met hul toesighouers en ondersteunende personeel te kommunikeer, is daar ander struikelblokke hierin, soos ’n ingewikkelde rapporteringstruktuur en tydsbeperkings.

 

Ontleding en bevindings 

Hoewel al die deelnemers voldoende toerusting vir kommunikasie het, ondervind hulle etlike struikelblokke in hul kommunikasie met veral toesighouers. Dit sluit in ’n ingewikkelde redaksiestruktuur met te veel toesighouers, wat veroorsaak dat die joernalis nie altyd seker is met watter toesighouer op ’n bepaalde tydstip gekommunikeer behoort te word nie. Die vinnige omset van toesighouers, onervarenheid onder hulle en verskillende maniere van werk is ook ’n struikelblok. Werksdruk en tegnologie wat soms nie in veral afgeleë gebiede funksioneer nie, belemmer kommunikasie ook.

Een deelnemer verwoord dit so:

Wat wel soms ’n struikelblok is, is dat ons baie verskillende base het. Sommige lynbestuurders is onervare, verstaan nie altyd die geografie van die gebiede waarin ons werk nie en het ook nie altyd begrip oor hoe ’n buitekantoor werk nie. Sommige van hulle is minder ervare as ’n buitekantoorjoernalis. Vinnige omset van lynbestuurders is nog ’n struikelblok omdat elkeen ’n ander manier van werk en prioriteite het. Dit en herstrukturering veroorsaak voortdurende veranderinge in rapporteringslyne, wat ’n struikelblok vir kommunikasie is. Baie vergaderings, veral tydens die herstruktureringsproses, veroorsaak ook dat lynbestuurders dikwels nie beskikbaar is vir kommunikasie nie. (D3)

Die deelnemers se antwoorde bevestig die literatuur dat die genoemde hulpmiddele nodig is, omdat daar duidelik moeite gedoen is dat hulle die meeste van hierdie hulpmiddele moet hê. Betreffende die struikelblokke in kommunikasie met veral toesighouers word die teoretiese nodigheid hiervan bevestig deurdat die deelnemers die struikelblokke as ’n tekortkoming beskou.

Moontlike oplossings vir hierdie struikelblokke is om rapporteringslyne te vereenvoudig indien dit nie moontlik is om die redaksionele struktuur te vereenvoudig nie. Tegnologie/toepassings soos WhatsApp, SMS’e of selfs Facebook kan ook by geleentheid ingespan word om vinniger kontak met toesighouers te maak. 

5.4.3 Konsep 3: Individu

Kernverwagtinge en vaardighede waaroor joernaliste behoort te beskik, word nie as sulks in hierdie studie ontleed of beoordeel nie, hoewel dit die gewenste uitset behoort te wees indien die proses van selfbestuur doeltreffend uitgevoer word (vgl. 5.4.1). Een aspek/konstruk rondom die verwagtinge waaraan joernaliste moet voldoen, naamlik oor watter opleiding en kwalifikasies hulle beskik, is egter wel getoets in sommige vrae wat gestel is, omdat hul opleiding en kwalifikasies ’n belangrike inset vir die proses van nuusbestuur is. 

Ontleding en bevindings

Net drie van die agt (aanvanklike) deelnemers het ’n toepaslike graad of diploma in joernalistiek. Ses het egter indiensopleiding gekry en/of kursusse gedoen. Al die deelnemers het meer as 10 jaar joernalistieke ervaring, van wie die meeste (ses) meer as 14 jaar ervaring het. Die helfte het meer as 20 jaar ervaring en een meer as 30 jaar ervaring. 

Die helfte (4) van die buitekantoorjoernaliste het wye ervaring by sowel plaaslike as nasionale publikasies, terwyl die meeste (5) by ten minste vier verskillende publikasies gewerk het. Die meeste (5) het ook bestuurservaring deurdat hulle al as nuusredakteur of as kantoorhoofde gewerk het, en een was al ’n redakteur. 

Wye en jare lange ervaring (ook in bestuur) by verskeie publikasies op plaaslike en nasionale vlak is dus ’n sterk ooreenstemmende eienskap by die oorgrote meerderheid van die deelnemers, en mag moontlik die belangrikste insette wees wat die buitekantoorjoernalis as individu na die proses van nuusgenerering bring. Hieruit kan die afleiding gemaak word dat indiensopleiding en praktiese ervaring die belangrikste faktore is wat ’n joernalis in staat stel om ’n buitekantoor te bestuur.

Die aanname in die teorie dat joernalistieke opleiding een van die kernverwagtinge van goeie joernaliste is, word dus hier weerlê. Praktiese en wye ervaring blyk dus in ten minste die geval van buitekantoorjoernaliste belangriker te wees as formele opleiding. 

5.4.4 Konsep 4: Die omgewing

’n Goeie kennis en oorsig van die omgewing is ’n belangrike inset vir die skep van nuusberigte van ’n goeie gehalte as gewenste uitset. Zaaiman (2001:243–6) se magselemente wat toepaslik is vir hierdie studie, asook inligting oor demografiese elemente verkry van webwerwe soos dié van Stats SA en Brand South Africa, is gebruik as riglyn om deelnemers se kennis oor die gebied waar hulle werk, te toets.

Tabel 3. Zaaiman se magselemente

Ekonomiese ordeninge. Dit gaan in wese oor die ontginning van hulpbronne om menslike behoeftes op verskeie vlakke te bevredig en is ’n kernfaktor in enige provinsie of streek waarin ’n buitekantoorjoernalis werk. Dit beïnvloed elke aspek van die lesers se lewe: hoe en of hulle werk, wat hulle verdien, waar hulle woon, hul vervoermiddele, misdaad, ongelykhede, armoede, rykdom, korrupsie, wanbesteding, behuising, toegang tot onderrig, ens. Vanselfsprekend is al hierdie faktore onderwerpe waaroor daagliks geskryf word, omdat dit mense direk raak. ’n Buitekantoorjoernalis moet weet hoe die ekonomiese profiel van sy lesers lyk, sodat hulle ingelig kan wees oor kwessies wat hulle raak. Die leser kan dié inligting gebruik om aan demokratiese prosesse deel te neem sodat positiewe veranderinge kan kom ten opsigte van ekonomiese ongelykhede en ander probleme.

Politieke strukture en prosesse. Dis die strukture en prosesse vir die bestuur en beheer van openbare sake. Die politieke mag in ’n bepaalde streek of provinsie het ’n beduidende invloed op die uitvoer van beleid op nasionale en provinsiale vlak. Sulke beleide en die uitvoer daarvan raak elke inwoner direk. Die buitekantoorjoernalis moet dus weet wie die politieke septer in sy gebied swaai, watter ander politieke magte ter sprake is en hoe hul doen en late op so ’n manier aan die lesers gekommunikeer kan word dat die lesers hul demokratiese reg kan gebruik om die politieke magsbasis te verander indien nodig en kan help met die formulering van beleid.

Natuurlike ruimtelike omgewing. Seisoenale en klimatologiese toestande het ’n groot invloed op alle mense in ’n bepaalde provinsie of streek. Die buitekantoorjoernalis moet weet watter faktore hier belangrik is om lesers oor in te lig, byvoorbeeld die voorkoms van droogte in ’n streek waar boerderybedrywighede ’n belangrike deel van die streeksekonomie is.

Mense. Hulle het ’n behoefte aan onder meer sekuriteit, orde, sosiale samehang, huisvesting, kleding en voeding. Mense het egter baie verskillende behoeftes. Vir die buitekantoorjoernalis is dit belangrik om die behoeftes van mense in sy omgewing te bepaal sodat geskryf kan word oor die dinge wat hulle raak en waarin hulle belang stel.

Sosiale patrone en produkte. Dit sluit in hoe mense in ’n bepaalde streek dink, wat hulle doen en hoe hulle dit uitleef in die vorm van tradisies, ideologieë, modes, gebruike, gelowe, norme, waardes, etiese beskouings, geloofsoortuigings, denkbeelde oor die verlede en taal. Die beskikbare media in ’n bepaalde gebied weerspieël al dié aspekte.

 

Tabel 4. Demografiese inligting oor die lesers

Sluit streeksdata in oor onder meer:

  • Hoeveel mense daar woon.
  • Ras- en geslagsamestelling.
  • Voorkoms van verskillende moedertale.
  • Statistieke oor inkomste, werkloosheid, armoede, behuising, hongersnood en toegang tot water en elektrisiteit.
  • Statistieke oor ouderdomsgroepe, geboortes, sterftes en die voorkoms van gestremdhede.
  • Landbougemeenskappe en vervoer.

Nut: Inligting soos hierdie kan met groot vrug gebruik word om te bepaal hoe ’n buitekantoorjoernalis se lesers op verskillende samelewingsvlakke lyk, leef en praat. Dis ’n belangrike riglyn oor wat vir hulle belangrik is om te weet, waarin hulle belangstel en ook watter soort inligting van hulle verkry kan word.

 

5.4.4.1 Konstruk 1: Demografiese inligting oor lesers/mense in bedieningsgebied

Ontleding en bevindings 

Deelnemers het wat sowel hul eie lesers as die groter bevolking in hul bedieningsgebied betref, eintlik net ’n goeie kennis van die mense se ras- en taalgroep en ’n redelike kennis van ekonomiese aspekte soos hul inkomstevlak, metodes van vervoer en of hulle meestal werk het of nie. Wat die res van die demografiese inligting betref, het hulle hier en daar ’n vermoede, maar geen vaste idee nie. Hul kennis oor aspekte soos toegang tot basiese dienste, inkomste en ouderdom is dus vaag.

Die deelnemers maak grootliks staat op hul eie ervaring van mense in hul gebied en dié se probleme om ’n profiel van hul omgewing te vorm. Sommige steun ook soms op navorsing wat hul maatskappye doen en navorsingsresultate op webwerwe soos Stats SA. Dis duidelik hulle het nog nooit formeel ’n omgewingsprofiel van die gebied waar hulle werk, saamgestel nie. Die profiel is eerder oor ’n tydperk gevorm as ’n soort begrip van wie hul lesers en die breë publiek is. Dis meestal gevorm op grond van persoonlike ervaringe wat oor ’n tydperk met die skryf van stories opgedoen is, wat soms genoodsaak het dat hulle navorsing oor sekere aspekte van die demografiese eienskappe moes doen.

Hul begrip van die demografie van hul omgewing is gevolglik in die meeste opsigte gebrekkig en vaag omdat dit subjektief opgebou is.

Ondanks dié tekortkoming meen ses van die agt deelnemers demografiese faktore is ’n belangrike aanduider van wat vir lesers belangrik is en wat die impak van nuusgebeure op hulle sal wees. Hulle neem die (gebrekkige) kennis daaroor dus in ag wanneer hulle besluit waaroor om te skryf en wat die invalshoek sal wees. 

Hiermee staaf deelnemers stellings in die literatuur dat die lesers se behoeftes en verwagtinge belangrike faktore is wat in ag geneem behoort te word wanneer nuusbesluite geneem word (sien Schoenbach en Van der Wuff 2014b:121). Kovach en Rosenstiel (2007:209–12) staaf aansluitend hierby die deelnemers se mening dat ook kwessies in die groter bevolking in ag geneem moet word wanneer nuusbesluite geneem word. Een van die kernbeginsels van goeie joernalistiek is om omvattende, volledige nuus aan ’n diverse gemeenskap te bied. Dit moet ’n “kaart” vir landsburgers skep wat hulle deur die samelewing help navigeer en geografies oriënteer.

Hier is dus groot ruimte vir verbetering. Elke buitekantoorjoernalis behoort met sy of haar aanstelling só ’n demografiese profiel saam te stel om reeds van die begin af beter te kan fokus op kwessies wat belangrik is vir die lesers en, waar toepaslik, vir die breër publiek. Buitekantoorjoernaliste behoort meer moeite te doen om vas te stel hoe presies hul lesers lyk, sodat nuusbesluite ook met inagneming daarvan geneem kan word. Dit kan beskou word as een van die kernbates wat buitekantoorjoernaliste behoort te hê wat hulle ook onderskei van stadsjoernaliste. Hulle het ’n goeie kennis van mense in hul gebied weens jare lange ervaring en die meer intieme verhouding wat hulle met hul lesers het. Hierdie soort kennis is ’n swaar-verkreë bate wat nie maklik vervang kan word nie. Dit behoort ook ’n motiveerder vir nuusbesture by dagblaaie te wees om buitekantoorjoernaliste te hou waar hulle is en nie te probeer om streeknuus uit die stad te lewer nie. Die gehalte van stories wat geskryf word deur iemand in die stad met geen kennis van die demografiese eienskappe van lesers in ’n sekere gebied nie, sal beslis nie so goed wees soos dié van ’n buitekantoorjoernalis met ’n goeie kennis van die behoeftes en eienskappe van lesers in ’n bepaalde gebied nie.

Buitekantoorjoernaliste moet ook daarteen waak om te min klem op die demografiese eienskappe van die breër bevolking te lê, want hulle besef tereg ook hul lesers behoort hiervan kennis te neem – dis deel van die koerant se opvoedingstaak en taak om in te lig.

Hier volg ’n voorbeeld van hoe so ’n omgewingsprofiel van Noordwes kan lyk.

 

Figuur 10. Omgewingsprofiel – Noordwes 

5.4.4.2 Konstrukte 2 tot 4: Ekonomie, politiek en die natuurlike omgewing

Ontleding en bevindings 

Al die deelnemers behalwe een het ’n baie goeie kennis van die ekonomiese, politieke en natuurlike ruimtelike aspekte wat ’n rol in hul omgewing speel. Dis goed, want dit raak lesers en die ekonomie. Hulle behoort dus kennis hiervan te dra en ook ingelig te word oor wat hulle kan doen in byvoorbeeld droogtetye om water te bespaar of hoe besoedeling bekamp kan word.

Die feit dat die deelnemers eerstens ’n goeie kennis van die ekonomiese, politieke en natuurlike ruimtelike rolspelers in hul omgewing het en dit ook sterk in nuusbesluite oorweeg, staaf Coulter en Robbins (2005:206) se stelling dat een van die belangrikste aspekte van beplanning is om die omgewing waarbinne jy leef en werk, te assesseer. Dit behels onder meer om groot hoeveelhede inligting uit die omgewing te verkry sodat die omgewing beter geïnterpreteer kan word en toekomstige tendense voorspel kan word (Coulter en Robbins 2005:206–8). 

By die een joernalis wat natuurlike ruimtelike faktore nie in ag neem nie, is dit ’n ernstige tekortkoming omdat dit ’n belangrike aspek van elke leser se leefwêreld is en ’n direkte invloed op hul lewens kan hê. Origens is die meeste buitekantoorjoernaliste se kennis hieroor kernbelangrik, omdat almal van hulle ook besef hierdie komponente/konstrukte speel ’n belangrike rol in nuusbesluitneming. 

Deelnemers kon dié magte in hul omgewings in die fynste besonderhede beskryf:

Landbou speel ’n reuse ekonomiese rol in die verspreidingsgebied. Die grootste deel van die ekonomie word deur landboubedrywighede en mynbou aangevuur. Die land se mielieproduksie is hoofsaaklik afkomstig uit die Vrystaat. Sowat twee derdes van die provinsie se landbou-inkomste word gemaak uit mielies. Die grootste gedeelte van die land se kersie-produksie is byvoorbeeld afkomstig uit Ficksburg in die Oos-Vrystaat. Gewasse soos soja, sorghum en sonneblomme is ook gewilde gewasse in die gebied. Veeboerdery (skape, beeste, hoenders) is algemeen in die Vrystaat en wildboerdery neem al meer toe. Wildboerdery, waaronder springbokke, koedoes, swartwitpense, raak toenemend gewild onder boere. (D4)

Politiek: uiteraard baie belangrik. Ekonomiese kragte: baie belangrik omdat hierdie gebied baie werk verskaf aan blouboordjiewerkers. Die natuurlike omgewing is uiters belangrik want die gebied is baie afhanklik van die Vaalrivier. Trouens die Vaalrivier verskaf water aan die grootste deel van Gauteng, dele van Noordwes, Mpumalanga en die Noord-Vrystaat. (D3)

5.4.4.3 Konstruk 5: Mense se behoeftes

Ontleding en bevindings

Die meeste van die deelnemers weet uit die aard van hul werk en jare lange ervaring met lesers wat hul lesers se behoeftes is. In hierdie opsig voldoen die deelnemers dus aan een van die vereistes vir gehalteberiggewing wat in die teorie gestel word, naamlik dat die eindproduk aan bepaalde verwagtinge of behoeftes van die lesers moet voldoen.

Buitekantoorjoernaliste het egter ook kennis nodig van die groter bevolking se behoeftes om hul diensfunksie volledig te kan vervul, maar uit hul antwoorde blyk dit hulle het gebrekkige kennis hiervan. Almal wat in ’n gebied woon, is onderling verweef en probleme in een gemeenskap spoel noodwendig oor na ’n ander gemeenskap. Lesers kan nie in isolasie woon nie en moet ook weet watter kwessies in die groter bevolking hulle raak. Daarom behoort buitekantoorjoernaliste ook op die hoogte te wees van die behoeftes en leefwêreld van die groter bevolking wanneer nuusbesluite geneem moet word oor watter van hierdie kwessies ’n uitwerking op die lesers het.

Een deelnemer beskryf haar lesers en die breër bevolking se behoeftes soos volg:

Ons lesers wil weet van diensleweringsprobleme wat hulle raak, korrupsie in munisipaliteite en provinsiale regering en beslis misdaad. Daar is ook groot belangstelling in “vreemde” stories soos mense wat deur ’n krokodil gevreet word of ’n leeu. Ek het dit bepaal deur reaksies op berigte wat ek deur die jare geskryf het. Die groter populasie wil meestal werk hê en dink media kan hulle daarmee help. Verder weet ek nie. (D1)

5.4.4.4 Konstruk 6: Sosiale patrone en produkte

Ontleding en bevindings

Die feit dat die deelnemers aandui dat hulle dié faktore in ag neem wanneer nuusbesluite geneem word, bevestig dat hierdie aspekte as deel van die omgewingsprofiel van die gebied waarin die joernalis werk, belangrike rigtingwysers is in nuusbesluite. Hier is egter ’n tekortkoming in kennis en geen doelbewuste poging om meer te wete te kom oor sosiale patrone en produkte nie.

Die deelnemers het vrae hieroor meestal vaag en onvolledig beantwoord:

Lesers is tradisioneel wit en stem DA. Ek bemoei my nie op die gebied van geloof nie (elke man soen sy vrou op sy eie manier!). (D2)

Dit is ’n moeilike vraag om te beantwoord. Die samelewing is baie divers. Hier is baie, baie welgestelde mense wat hier woon, maar ook mense in plakkerskampe. Ek ry gereeld in die omgewing rond en sien die gemeenskappe. (D3)

Ek weet my lesers is meestal wit en Afrikaanssprekend omdat dit tradisioneel Volksblad se lesers is. Hulle is Christene, konserwatief en plattelands. (D7)

Buitekantoorjoernaliste behoort aktief moeite te doen om meer oor hierdie aspekte uit te vind, omdat dit lesers se behoeftes direk raak.

Dis wel miskien moeilik om hierdie aspekte te bepaal, omdat veral die wyer bevolking so divers is, maar ook omdat geloof byvoorbeeld vir sommige ’n private of sensitiewe kwessie is waaroor nie baie uitgepraat word nie. ’n Moontlike gevaar hier is dat indien buitekantoorjoernaliste te sterk fokus op net die gelowe en sentimente van hul lesers, die lesers nie ingelig sal word oor ander groepe se waardes of behoeftes nie. Daar moet dus ’n balans wees tussen om lesers tevrede te hou en hulle op te voed oor kwessies in hul wyer omgewing. 

Die oplossing hier is om doelbewus ’n deeglike profiel saam te stel van enersyds lesers en andersyds die groter bevolking in ’n bepaalde gebied. So kan meer doelgerig besluit word watter van hierdie faktore belangrik is om binne verskillende scenario’s van nuusbesluite te oorweeg, na gelang van spesifieke situasies en gebeure. 

Die deelnemers se kennis van hierdie aspekte van sowel hul lesers as die groter bevolking is meestal gebrekkig. Net drie van die deelnemers het werklik ’n sinvolle begrip hiervan; die res raai of het hier en daar kennis van een aspek, soos geloof. Dit wat hulle wel weet, weet hulle uit ervaring.

 

6. Navorsingsbeperkings

Die volgende beperkings is van toepassing:

  • In hierdie studie is slegs die prosesse wat buitekantoorjoernaliste volg om nuus te bestuur, bestudeer. Die bevindings is dus net op hierdie subgroep van joernaliste van toepassing. 
  • Gehalte as sulks is nie in hierdie studie gemeet nie, maar wel die prosesse wat nodig is om gehalte te bereik.

Die volgende aanbevelings word gemaak vir studies wat uit hierdie studie kan voortspruit:

  • Die vraagstuk of daar ’n verskil is in die gehalte van die werk van joernaliste met toepaslike formele joernalistieke opleiding en dié wat suiwer deur ervaring geleer het.
  • Soortgelyke studies om die werkswyse van ander groepe joernaliste te bestudeer. Sulke groepe kan onder andere insluit joernaliste by streekkoerante, spesialiskoerante (byvoorbeeld sakeblaaie), tydskrifjoernaliste, joernaliste wat net aanlyn werk, ondersoekende joernaliste, radiojoernaliste en televisiejoernaliste. Die werkswyse van verskillende soorte joernaliste kan selfs met mekaar vergelyk word om verskille en ooreenkomste te identifiseer.
  • Die bepaling van die gehalte van buitekantoorjoernaliste se berigte. Dit kan ook vergelyk word met die gehalte van die werk van joernaliste in die hoofkantoor.

 

7. Bevindinge en gevolgtrekking 

Die ontleding van die empiriese data soos hier bo uiteengesit, asook die literatuurstudie, het ons in staat gestel om praktiese riglyne daar te stel vir watter prosesse die buitekantoorjoernalis kan volg om berigte van ’n goeie gehalte te lewer. Die riglyne behoort ook te help om bepaalde geïdentifiseerde tekortkominge in die bestuur van buitekantore uit die weg te ruim. Sien die bylae vir die riglyne in tabelvorm.

 

Bibliografie

Abrahamson, J. 2010. Sustaining quality journalism. Daedalus, 139(2):39–44.

Anderson, P.J., G. Ogola en M. Williams (reds.). 2014. The future of quality news journalism. New York, NY: Routledge.

Annenberg Learner. 2017. Linear vs. nonlinear systems. https://www.learner.org/courses/mathilluminated/units/13/textbook/02.php (21 Oktober 2017 geraadpleeg). 

Bailey, K.D. 1994. Methods of social research. 4de uitgawe. New York, NY: The Free Press.

Batsible, B. 2014. The copy editor can save the day. Journalism Education Today, 47(4):35–41.

Billington, J. 2005. Timeless insights on how to manage your time. Boston, MA: Harvard Business School. 

Bogdan, S.J. en B. Taylor. 1998. Introduction to qualitative research methods. 3de uitgawe. New York, NY: John Wiley & Sons.

Botma, G.J. 2016: Cultural citizenship in the digital future(s): In search of a new code of praxis for South African journalism education and training. Critical Arts, 30(1):102–6.

Brants, K. 2013. Trust, cynicism and responsiveness: An uneasy situation of journalism in democracy. In Broersma en Peters (reds.) 2013. 

Broersma, M. en C. Peters (reds.). 2013. Rethinking journalism: Trust and participation in a transformed news landscape. Londen en New York: Sage.

Capra, F. 2005. Complexity and life. Theory, Culture & Society, 22(5):33–44.

Cham, K. en J. Johnson. 2007. Complexity theory: A science of cultural systems? Media Culture Journal, 10(3). http://journal.media-culture.org.au/0706/08-cham-johnson.php (4 Februarie 2017 geraadpleeg). 

Cilliers, P. 2000. What can we learn from a theory of complexity? Emergence, 2(1):23–33.

Cilliers, S.H. 2018. Gehalte-beriggewing in die buitekantoor van ’n Suid-Afrikaanse dagblad. MA-verhandeling, Noordwes-Universiteit.

Cole, P. en T. Harcup. 2010. Newspaper journalism. Los Angeles, CA: Sage.

Complexity theory. s.j. Dictionary.com. http://www.dictionary.com/browse/complexity-theory (4 Februarie 2017 geraadpleeg).

Coulter, M. en S.P. Robbins. 2005. Management. 8ste uitgawe. Boston, MA: Prentice-Hall.

Croft, C. 1996. Time management. Londen: International Thomson Business Press.

Cronjé, G.J., G.S. du Toit en M.D.C. Motlatla (reds.). 2000. Inleiding tot die bestuurswese. 5de uitgawe. Kaapstad: Oxford University Press. 

Denzin, N.K. en Y.S. Lincoln. 2000. Handbook of qualitative research. 2de uitgawe. Londen: Sage Publications. 

Deuze, M. 2005. What is journalism? Professional identity and ideology of journalists reconsidered. Journalism, 6(4):442–64.

Drucker, P.F. 2006. Classic Drucker: Essential wisdom from Peter Drucker from the pages of Harvard Business Review. Boston, MA: Harvard Business School Publishing.

Du Plooy, G.M. 2009. Communication research: Techniques, methods and applications. 2de uitgawe. Kaapstad: Juta.

Evans, J.R. en W.M. Lindsay. 2014. Managing for quality and performance excellence. 9de uitgawe. Mason: South-Western Cengage Learning.

Flick, U. 2014. An introduction to qualitative research. 5de uitgawe. Londen: Sage.

Garvin, A. 1988. Managing quality. New York, NY: Macmillan.

Giddings, M. 2007. Editing: The value of quality content in an online-first industry. https://scholarworks.umt.edu/utpp/168 (31 Oktober 2018 geraadpleeg).

Hanitzsch, T. 2013. Journalism, participative media and trust in a comparative context. In Broersma en Peters (reds.) 2013.

Hardesty, L. 2010. Explained: Linear and nonlinear systems. Massachusetts Institute of Technology. http://news.mit.edu/2010/explained-linear-0226 (3 Februarie 2017 geraadpleeg).

Harvard Business School. 2005. Taking control of your time. Boston, MA: Harvard Business School Press.

Heinrich, A. 2013. News making as an interactive practice: Global news exchange and network journalism. In Broersma en Peters (reds.) 2013.

Kovach, B. en T. Rosenstiel. 2007. The elements of journalism. New York, NY: Random House. 

Lewis, D. 1995. 10-Minute time and stress management. Londen: Judy Piatkus Publishers.

Luhman, N. 2013. Introduction to systems theory. Cambridge: Polity Press.

Manda, L.Z. 2015. Factors affecting the quality of Malawian journalism. African Journalism Studies, 36(1):156–62.

McFarland, J. 2005. Is multitasking overrated? Boston, MA: Harvard Business School.

McNair, B. 2013. Trust, truth and objectivity: Sustaining quality journalism in the era of the content generating user. In Broersma en Peters (reds.) 2013.

Meyer, I.C. 2010. Waardevolle joernalistiek: Op zoek naar kwaliteit vanuit het gezichspunt van de gebruiker. Tijdschrift voor Communicatiewetenschap, 38(3):223–31. 

Michelman, P. 2005. Strategies for the shorthanded. Boston, MA: Harvard Business School.

Nikunen, K. 2014. Losing my profession: Age, experience and expertise in the changing newsrooms. Journalism, 15(7):868–88.

Nowotny, H. 2005. The increase of complexity and its reduction: Emergent interfaces between the natural sciences, humanities and social sciences. Theory, Culture & Society, 22(5):15–31.

Odendal, F.F. en R.H. Gouws. 2010. Handwoordeboek van die Afrikaanse taal. 5de uitgawe. Pinelands: Pearson.

Ojetimi, S.A. 2012. The South African press code and investigative journalism: An in-depth study of the Sunday Times. MA-verhandeling, Universiteit van die Witwatersrand.

Parsons, T. 1991. The social system. Londen: Routledge.

Pihl-Thingvad, S. 2015. Professional ideals and daily practice in journalism. Journalism, 16(3):392–411.

Porlezza, C. en S. Russ-Mohl. 2013. In Broersma en Peters (reds.) 2013.

Press Council. The code of ethics and conduct for South African print and online media. 2016. https://accountablejournalism.org/ethics-codes/code-of-ethics-and-conduct-for-south-african-print-and-online-media (21 Oktober 2017 geraadpleeg).

Quinn, S. 2002. Knowledge management in the digital newsroom. Oxford: Focal Press.

Raffoni, M. 2005. Fundamental strategies for managing your time. Be sure you're spending your time in the right places. Harvard Business School. 

Reference for Business. s.j. Complexity theory. http://www.referenceforbusiness.com/management/Bun-Comp/Complexity-Theory.html (4 Februarie 2017 geraadpleeg). 

Rosen, L.D., K.R. Karwan en L.L. Schribner. 2003. Service quality measurement and the disconfirmation model: Taking care in interpretation. Total Quality Management & Business Excellence, 14(1):3–14. 

Scanlan, C. 2000. Reporting and writing: Basics for the 21st century. Orlando, FL: Harcourt College Publishers.

Schoenbach, K. en R. Van der Wuff. 2014a. Civic and citizen demands of news media and journalists: What does the audience expect from good journalism? Journalism & Mass Communication Quarterly, 91(3):433–51.

—. 2014b. Audience expectations of media accountability in the Netherlands. Journalism Studies, 15(2):121–37.

Schweiger, W. en J. Urban. 2014. News quality from the recipients’ perspective: Investigating recipients’ ability to judge the normative quality of news. Journalism Studies, 15(6):821–40. 

Stauffer, D. 2005. Pump up your volume! A dozen ideas for boosting personal productivity. Harvard Business School.

Steyn, E.F. 2006. Managerial competencies amongst first-line managers in South Africa's main stream media: A newsroom management framework. PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit. 

Stovall, J.G. 2005. Journalism: Who, what, when, where, why, and how. Boston, MA: Pearson. 

Strömbäck, J., M. Karlsson en D. Hopmann. 2012. Determinants of news content: Comparing journalists’ perceptions of the normative and actual impact of different event properties when deciding what’s news. Journalism Studies, 13(5/6):718–28.

Swanepoel, T. 2012. Comprehensive quality management model for community newspapers. PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit.

Timm, P.R. 1998. Building personal effectiveness for professional success. Seattle, WA: Crisp Publications. 

Tweissi, B.M., R.J. Suleiman en A.S. Al-Garallah. 2015. Jordanian journalists’ awareness of the concepts of standards of journalistic quality within Jordanian media institutions. Journal of Arab & Muslim Media Research, 8(1):55–78.

Van Leuven, S., A. Deprez en K. Raeymaeckers. 2014. Networking or not working? Journalism Practice, 8(5):552–62.

Von Hoffman, C. 2005. Getting organized. Harvard Business School.

Wahl-Jorgensen, K., A. Williams, R. Sambrook, J. Harris, I. Garcia-Blanco, L. Dencik, S. Cushion, C. Carter en S. Allan. 2016. The future of journalism. Digital Journalism, 4(7):809–15, DOI: 10.1080/21670811.2016.1199469.

Walby, S. 2007. Complexity theory, systems theory, and multiple intersecting social inequalities. Philosophy of the Social Sciences, 37(4):449–70.

Willis, J.W. 2007. Foundations of qualitative research: Interpretive and critical approaches. Thousand Oaks, CA: Sage. 

Witschge, T. 2013. Transforming journalistic practice: A profession caught between change and tradition. In Broersma en Peters (reds.) 2013.

Zaaiman, S.J. 2001. Plaaslike magsopset teoretisering: [sic] ’n Sintetiese bydrae as gids vir die ontleding van Suid-Afrikaanse plaaslike magsopsette. D.Phil-proefskrif, Universiteit Stellenbosch.

 

BYLAE

Tabel 1

Riglyne vir selfbestuur (Kerntaak/proses 1)

Bepaal en behaal doelwitte

  • Onderskei tussen werk- en persoonlike doelwitte. Kry balans tussen die twee.
  • Doen praktiese stappe om doelwitte te bereik en maak seker dit voldoen hieraan:
    • Spesifiek en konkreet.
    • Realisties
    • Beskikbare hulpbronne om dit te bereik.
    • Meetbare uitkoms: konkreet of gevoel van genoegdoening.
    • Sperdatum
    • Bestuur werksdruk; kry professionele hulp indien nodig.
    • Bestuur persoonlike omstandighede; kry professionele hulp indien nodig. 

Beplan

  • Beplan daagliks vooruit vir alle stories, ook dieptestories; hou dagboek.
  • Beplan saam met nuusredakteur.
  • Prioritiseer op grond van nuussin en ervaring.
  • Besluit wat jy gaan doen op grond van nuuswaarde, tydgebondenheid, interessantheid, trefkrag van gebeure, openbare belang.
  • Wees aanpasbaar.
  • Bestee die meeste tyd aan nuusinsamelingsproses; beplan vir reistyd, redigering van foto’s.

Wees produktief

  • Liasseer dokumente gereeld; bêre ten minste drie jaar lank.
  • Moenie take uitstel tensy groot, dringende werk opduik nie.
  • Herprioritiseer of delegeer wanneer take onderbreek word.
  • Kommunikeer amptelik of wanneer rekordhouding nodig is, per e-pos.
  • Voer persoonlike onderhoude vir stories met hoë emosionele impak.
  • Kommunikeer telefonies wanneer inligting dadelik verlang word en dit te ver is om te ry.

Beheer standaard van werk

  • Weet wat die verwagte standaard is, erken wanneer jy nie daaraan voldoen nie en doen stappe vir verbetering (deur kontrak, pligstaat, merietegesprekke).
  • Skep en benut opleidingsgeleenthede.
  • Kry voldoende toegang tot tersaaklike tegnologie.

Behou perspektief oor dit wat jy kan beheer en dit wat jy nie kan beheer nie

  • Raadpleeg nuusredakteur vir hulp/raad met moeilik beheerbare aspekte.
  • Beplan en prioritiseer om dinge te bestuur waaroor jy beheer het. 

Bestuur jou persoonlikheid

  • Ruim tyd in vir ontspanning; kry professionele hulp indien nodig.
  • Wees selfhandhawend.
  • Neem grondige kritiek ter harte; gebruik ervaring/raad van ander as riglyn.
  • Vermy, ignoreer of beperk kontak met mense of situasies wat spanning aanwakker.
  • Moenie wegskram van moeilike onderwerpe nie: raadpleeg kenners vir hulp.
  • Kry professionele hulp met struikelblokke.

 

Tabel 2

Riglyne vir die saamstel van ’n kontaklys (Kerntaak/proses 2)

  • Stoor kontakbesonderhede van alles instansies, individue en kenners met wie jy te doen kry by geleenthede en met die skryf van berigte.
  • Hou kontakbesonderhede bygewerk: Staan daagliks tyd af om nuwe besonderhede te stoor.
  • Berg kontakbesonderhede op jou rekenaar in ’n spesiale dokument; druk elke maand ’n bygewerkte weergawe van die kontaklys in hardekopie uit.

 

Tabel 3

Riglyne vir nuusgenerering (Kerntaak/proses 3)

Subproses 1: Nuusseleksie

  • Fokus sterk op tradisionele nuusbronne soos die polisie, howe, mediaverklarings en bywoning van gebeure.
  • Gebruik informele bronne soos sosiale aanlyn platforms aanvullend.
  • Skryf oor wat interessant en belangrik is vir die lesersgehoor, groot impak op hulle het en in openbare belang is.
  • Soek aktief na unieke stories, pleks van net te reageer op ander media.
  • Berig steeds oor belangrike nuus, al is dit nie eksklusief nie en al is daar nie dadelik visuele elemente soos foto’s en video’s beskikbaar nie.

Subproses 2: Nuusinsameling

  • Gebruik alle beskikbare toerusting (selfone, diktafone, notaboeke, voertuie, kameras).
  • Span oorredingsvermoë, kommunikasievaardighede, onderhoudvoeringstegnieke, aandagtige luister en medelye in.
  • Toon meelewing en empatie.

 

Tabel 4

Riglyne vir die skryf van nuus (Kerntaak/proses 4)

Volg die volgende stappe:

  • Skryf ’n eerste weergawe uit die ingesamelde inligting; verifieer dan feite waaroor twyfel nog bestaan.
  • Herskryf die berig sodat dit die regte voorgeskrewe lengte is.
  • Lees die berig nog ’n keer deur om seker te maak dit vloei logies en dat dit ’n volledige, billike en duidelike weergawe van die nuusgebeurtenis is.
  • Kontroleer spelling, punktuasie, grammatika en styl weer vir oulaas.
  • Hou by die spertyd. 

Begin eerste aan die belangrikste aspekte skryf.

Pas die struktuur van berigte aan na gelang van die onderwerp en aard van die nuus (harde vs. sagte nuus).

 

Tabel 5

Riglyne vir kommunikasie met die nuusredakteur (Kerntaak/proses 5)

Bespreek die volgende aspekte gereeld met die nuusredakteur:

  • Groot nuwe verwikkelinge met nuusberigte.
  • Berigte wat nie gaan realiseer nie.
  • Sodra berigte klaar geskryf en gestoor is.
  • Indien bystand benodig word met die neem van foto’s of videomateriaal.

 

Tabel 6

Hulpmiddele benodig (Inset 1)

Dokument met diensvoorwaardes.

Infrastruktuur: toegeruste kantoor, voertuig, rekenaartoerusting, kamera, toegang tot internet, skryfbehoeftes.

Ruim struikelblokke vir kommunikasie met nuusbestuur en administratiewe personeel uit die weg:

  • Verskaf voldoende toerusting daarvoor.
  • Vereenvoudig rapporteringslyne.

 

Tabel 7

Wat word benodig van die individu/joernalis? (Inset 2)

Ten minste tien jaar joernalistieke ervaring by verskillende publikasies.

Sterk aanbevole: ervaring in nuusbestuur.

Verkieslik, maar nie noodsaaklik nie: toepaslike graad, diploma of ander formele opleiding in joernalistiek.

 

Tabel 8

Wat word benodig van die omgewing? (Inset 3)

Volledige omgewingsprofiel met inligting oor die volgende aspekte:

  • Lesers en breër bevolking se demografiese eienskappe ten opsigte van ras, taal, behuising, werkstatus, ouderdom, inkomste ens.
  • Lesers en breër bevolking se behoeftes in die algemeen en ten opsigte van wat hulle van die media verwag.
  • Die belangrikste ekonomiese en politieke magte in jou streek.
  • Die belangrikste faktore in die natuurlike omgewing in jou streek wat ’n impak op jou lesers en die breër gemeenskap het.
  • Geloof, ideologieë en kultuurverskynsels in jou streek.
  • Stel die profiel saam met die hulp van kenners, statistieke en toepaslike dokumente. Wees oplettend in daaglikse omgang met lesers en die breër gemeenskap.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Gehalteberiggewing in die buitekantoor van ’n Suid-Afrikaanse dagblad appeared first on LitNet.

Die realisering van leksikale kohesie: ’n Korpuslinguistiese ondersoek van Afrikaanssprekende graad 6- en graad 9-leerders se skryfwerk

$
0
0

Die realisering van leksikale kohesie: ’n Korpuslinguistiese ondersoek van Afrikaanssprekende graad 6- en graad 9-leerders se skryfwerk

 Nadine Fouché en Jako Olivier, Skool vir Professionele Studies, Fakulteit Opvoedkunde, Noordwes-Universiteit

LitNet Akademies Jaargang 17(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

In die Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring (KABV) van die intermediêre (graad 4–6) en senior (graad 7–9) fases word aangetoon dat leerders tydens die produsering van skryfstukke verbindingswoorde moet gebruik om kohesiewe tekste te skep, soos herhaling, sinonieme en antonieme. Wanneer hierdie taalvorme gebruik word om kohesiekettings te skep, dui die gebruik daarvan op die realisering van leksikale kohesie. Ons wou ondersoek instel na die verskillende taalvorme wat op skoolvlak deur leerders in Afrikaanse tekste gebruik word om leksikale kohesie te realiseer, omdat die realisering van leksikale kohesie nog nie in die skryfwerk van moedertaalsprekers van Afrikaans ondersoek is nie, hoewel dit implisiet as ’n doelwit in die KABV gestel word. In hierdie navorsingsartikel is ’n korpusgebaseerde ondersoek onderneem om Afrikaanssprekende graad 6- en graad 9-leerders se selfstandige gebruik van taalvorme vir die realisering van leksikale kohesie te bepaal. Een graad 6-korpus (20 723 woorde) en een graad 9-korpus (22 171 woorde) is ontleed. Uit die ontleding het dit geblyk dat die betrokke graad 6- en graad 9-deelnemers die volgende taalvorme vir die realisering van leksikale kohesie gebruik het: (i) herhaling, (ii) sinonieme en naby-sinonieme, (iii) antonieme, (iv) superordinate, hiponieme, gekoördineerde lede in geordende en ongeordende reekse en epiteta (d.i. insluiting), (v) afgeleide vorme en die herhaling daarvan, sowel as (vi) afwisselende naamwoordstukke. Die bydrae van hierdie artikel is ’n samevatting van verskillende taalvorme waardeur leksikale kohesie gerealiseer word, gemeet aan leerderkorpora. Die bevindings van hierdie studie kan deur Afrikaansonderwysers in die klaskamer gebruik word om leiding te gee oor hoe verbindingswoorde (soos in die KABV gemeld) gebruik kan word om opeenvolgende stukke taal in skryfwerk sintakties te laat saamhang en sinvol by mekaar te laat inskakel.

Trefwoorde: kohesie; korpuslinguistiek; leerderskryfwerk; leksikale kohesie; realisering; taalvorme; tekslinguistiek

 

Abstract

The realisation of lexical cohesion: A corpus linguistic study of Afrikaans-speaking grade 6 and grade 9 learners’ writing

A text can be defined as a piece of language use which is experienced and accepted as a communicative unit on syntactical, semantical and pragmatical foundations. What is meant by this is that any text is understandable because it has a unique linguistic (syntactic, morphological and lexical) structure; it is intelligible, seeing as it has a set meaning; and it is explainable for the fact that it can be placed in the context in which it is used. Another characteristic by which a text can be identified is the presence of texture. Texture is acquired when a text functions as a unit with regard to its surroundings. Cohesive markers are used to accomplish this unit and consequently ensure texture.

More than four decades ago, Halliday and Hasan (1976:4) identified five types of cohesive marker, namely reference, substitution, ellipsis, conjunction and lexical cohesion. The use of each of these markers is indicated by certain language forms in the text.

When reference is used for accomplishing cohesion, it creates continuity; in other words, its use indicates that the same reference (or matter) that was introduced earlier in the text is applicable for a second time. Pronouns, adverbs and articles are used, among others, to indicate the use of reference.

Secondly, cohesion can be acquired by means of substitution. When substitution is used to create a cohesive text, a type of substitute word (or counter) is used to exclude the repetition of a word or phrase. Substitutive words such as so, one, do that or do it are used to indicate the realisation of lexical cohesion.

Thirdly, relation between words and sentences can be indicated with an ellipsis; in other words, there is a presumption in the structure that the reader must predict or understand something. The meaning of the syntactical process is usually embedded in the preceding text section.

Fourthly, cohesion can be acquired through conjunction. Conjunction differs from the other cohesion markers in that it does not establish cohesion in the form of continuity with reference to continuity of form (as is the case with ellipsis and substitution); cohesion is established because a particular semantic relation (contiguous, contradictory, explanatory or temporal) is exemplified explicitly between sentences through lexical items like conjunctions (for example and, but and because), adverbs (yet, therefore, thus) and adverbial phrases (for example the following day).

Lastly, lexical cohesion can result in binding. Lexical cohesion is realised by the use of a language’s vocabulary. For this, repetition of the same word/phrase/expression, synonyms, semantic contrast and hyponyms, among others, are utilised.

The Curriculum and Assessment Policy Statement (CAPS) of the intermediary (grade 4–6) and senior (grade 7–9) phases states that learners must use conjunctions such as repetition, synonyms and antonyms when producing essays to create cohesive texts. When these language forms are used to create cohesive chains, they point to the realisation of lexical cohesion, as indicated in the previous paragraph. We wanted to investigate the various language forms that learners use in Afrikaans texts in order to realise lexical cohesion, because the realisation of lexical cohesion is not yet studied in the writing of Afrikaans mother tongue speakers, even though it is implicitly stated in the CAPS.

In this research article, a corpus-based study is undertaken to determine the independent use of language forms for the realisation of lexical cohesion among Afrikaans-speaking grade 6 and grade 9 learners. One grade 6 corpus (20 723 words) and one grade 9 corpus (22 171 words) were analysed. Each of the essays were read more than once, word by word, and analysed according to the measuring framework. Each language form that was used effectively for the realisation of lexical cohesion in the grade 6 and grade 9 corpora and included in the measuring frame work, was coded. ATLAS.ti, which was used for the coding of the data, improves the contribution of the study, because it differs from existing Afrikaans corpus studies that use WordSmith Tools as corpus analysis software. The effective use of language forms for the realisation of lexical cohesion, which indicate links between words within the same sentence (i.e. sentence-internal cohesion marker use) and language forms which indicate meaning relations between words across sentence boundaries (i.e. sentence-external cohesion markers), were coded by means of ATLAS.ti. After the coding of the effective use of each language form for the realisation of lexical cohesion by means of ATLAS.ti, we used ATLAS.ti to create a synthetising report indicating how many times each language form figured in the grade 6 and grade 9 corpus. These frequencies are normalised after cohesion marker use per 1 000 words, as is appropriate in corpus linguistics.

From the analysis it seemed that all the grade 6 and grade 9 participants involved had figured all the different language forms for the realisation of lexical cohesion included in the measuring framework of the grade 6 and grade 9 corpus, namely (i) repetition, (ii) synonyms and nearby synonyms, (iii) antonyms, (iv) superordinates, hyponyms, coordinated members in organised and unorganised sequences and epithet (i.e. inclusion), (v) derived forms and the repetition thereof, as well as (vi) alternate noun phrases. Parallelism as a form of repetition, which is not in the measuring framework, is also used for realising lexical cohesion.

The contribution of this article is a summary of various language forms by which lexical cohesion is realised as measured against learner corpora. Afrikaans teachers can use the findings of this study in the classroom to give guidance on how conjunctives (as stated in the CAPS) can be used to bind consecutive language phrases syntactically – in other words, to make texts cohesive by linking their surface components (i.e. the sentences and the words they consist of) with each other.

The creation of cohesive texts, as effected by making use of various cohesion markers (not solely lexical cohesion), should be encouraged in the classroom because cohesive texts are texts of which the various parts fit together. It is precisely this characteristic of co-interpretation that distinguishes a collection of non-related sentences of a text as a linguistic unit. The use of cohesion markers indicates that an idea is continued from one point of discourse to another. In so doing, semantic continuity is ensured between different parts of a text. It is this semantic continuity which enables the listener or reader to, just as with an incomplete puzzle, provide the missing puzzle pieces so that the whole picture can be obtained and the text can be optimally interpreted. The continuity that is created through the linking of surface components establishes coherence, even though other researchers rather use the term enforce to describe the relationship between cohesion and coherence, while others argue that coherence is reflected by means of the relationship with cohesion. The findings of this article can therefore be used by teachers when teaching writing and presentation as language skills in the CAPS, since the use of cohesion markers has an important text-forming function.

Keywords: cohesion; corpus linguistics; learner writing; lexical cohesion; realising; language forms; text linguistics

 

1. Inleiding

Carstens (1997:81) definieer ’n teks as “’n stuk taalgebruik wat deur die betrokke teksdeelnemers as EENHEID ervaar en aanvaar word op sintaktiese, semantiese en pragmatiese gronde”. Wat hiermee bedoel word, is dat enige teks verstaanbaar is, omdat dit ’n unieke taalkundige (sintaktiese, morfologiese en leksikale) struktuur het; begryplik is, aangesien dit ’n vaste betekenis het; en verklaarbaar is, vanweë die feit dat dit geplaas kan word in die konteks waarin dit gebruik word (Carstens en Van de Poel 2012:54). Halliday en Hasan (1976:2) identifiseer ’n verdere eienskap waardeur ’n teks gekenmerk word, naamlik dat dit tekstuur (“texture”) het. Volgens hulle word tekstuur verkry wanneer ’n teks as ’n eenheid met betrekking tot sy omgewing funksioneer. Om hierdie eenheid te bewerkstellig en gevolglik tekstuur te verseker, word kohesiemerkers gebruik. Vyf tipes kohesiemerkers is meer as vier dekades gelede deur Halliday en Hasan (1976:4) geïdentifiseer, naamlik verwysing, plaasvervanging (of substitusie), ellips, konjunksie en leksikale kohesie. Die gebruik van elkeen van hierdie merkers word deur bepaalde taalvorme, soos wat uit die onderstaande bespreking sal blyk, aangedui.

Eerstens kan verwysing1 gebruik word om kohesie binne ’n teks te bewerkstellig. In hierdie geval word kohesie bewerkstellig as gevolg van die kontinuïteit van verwysing (Halliday en Hasan 1976:31). Dit beteken dat dieselfde referent wat al voorheen in die teks bekendgestel is, vir ’n tweede keer die diskoers betree. Om die gebruik van verwysing aan te dui, word, onder andere, voornaamwoorde, bywoorde en lidwoorde ingespan. ’n Afrikaansspesifieke voorbeeld ter illustrasie is: Moenie met die hond speel nie; hy sal byt! (Carstens 1986:109).

Tweedens kan kohesie deur middel van plaasvervanging2 bewerkstellig word. Wanneer vervanging gebruik word om ’n kohesiewe teks te skep, word ’n tipe plaasvervangende woord (of “counter”) gebruik om die herhaling van ’n woord of frase uit te skakel. Die gebruik van plaasvervanging word aangedui deur woorde soos so, een, maak so en doen dit te gebruik (Halliday en Hasan 1976:89). ’n Voorbeeld van die realisering van plaasvervanging is: Dit is ’n mooi lesinglokaal hierdie wat julle het. Ek glo nie dat ek al ooit in ’n beter een (= lesinglokaal) klasgegee het nie (vertaal uit Halliday en Hasan 1976:146).

Derdens kan verbande tussen woorde en sinne met behulp van ellips3 aangedui word; met ander woorde in die struktuur is daar ’n veronderstelling dat iets deur die leser voorsien of verstaan moet word. Die betekenis van die nulanafoor lê normaalweg in die voorafgaande teksgedeelte opgesluit (Halliday en Hasan 1976:144). Vergelyk die volgende Afrikaansspesifieke voorbeeld van ellips: Yvonne skryf ’n brief of lê en slaap, waar Yvonne in die tweede konjunk ellips ondergaan (Botha 1987:142).

Vierdens kan kohesie deur middel van konjunksie bewerkstellig word. Konjunksie4 verskil van die ander kohesiemerkers in die opsig dat dit nie kohesie bewerkstellig in die vorm van kontinuïteit van verwysing of kontinuïteit van vorm (soos wat die geval is by ellips en substitusie) nie, maar dat dit kohesie bewerkstellig deurdat ’n besondere semantiese verband (aaneenskakelend, teenstellend, redegewend of tydsaanduidend) eksplisiet met behulp van leksikale items soos voegwoorde (byvoorbeeld en, maar en want), bywoorde (nogtans, daarom, dus) en bywoordelike frases (byvoorbeeld die volgende dag) tussen sinne geëkspliseer word (Halliday en Hasan 1976:242–43). Halliday en Hasan (1976:308) beskryf die funksie van konjunksie as kohesiemerker soos volg:

Some relation is established between the meanings of two continuous passages of text, such that the interpretation of the second is dependent on the relation in which it stands to the first.

Laastens kan leksikale kohesie binding teweegbring. Leksikale kohesie word gerealiseer deur die gebruik van die woordeskat van ’n taal (Halliday en Hasan 1976:274). Hiervoor word, onder andere, herhaling van dieselfde woord/frase/uitdrukking, sinonimie, semantiese teëstelling en hiponieme ingespan (Halliday en Hasan 1976:278–84). ’n Voorbeeld in hierdie verband is: Hoekom sit hierdie seuntjie nie stil nie? Ander seuntjies sit wel stil (vertaal uit Halliday en Hasan 1976:282).

Die gebruik van kohesiemerkers, gerealiseer deur spesifieke taalvorme, dui aan dat verskillende dele van ’n teks bymekaar pas (De Beaugrande en Dressler 1981:113). Dit is juis hierdie eienskap van koïnterpretasie (Halliday 2002:43) wat ’n versameling nieverbandhoudende sinne onderskei van ’n teks as ’n linguistiese eenheid5 (Halliday en Hasan 1976:1). Deur middel van die gebruik van kohesiemerkers word aangetoon dat ’n idee voortgesit word van een punt in die diskoers na ’n volgende. Sodoende word semantiese kontinuïteit tussen verskillende dele van ’n teks verseker (Halliday en Hasan 1976:299). Dit is hierdie semantiese kontinuïteit wat die hoorder of leser in staat stel om, soos met ’n onvoltooide legkaart, die legkaartstukkies wat ontbreek, te voorsien, sodat ’n geheelbeeld verkry kan word en die teks optimaal geïnterpreteer kan word (Halliday en Hasan 1976:299). Ook Du Toit en Smith-Müller (2003:8) wys daarop dat die kontinuïteit wat deur middel van die skakeling van oppervlakkomponente geskep word, koherensie bewerkstellig, hoewel Carstens (1987:27) en Carstens (1997:118) van mening is dat kohesie eerder koherensie versterk, en Hoey (2001:51) redeneer dat koherensie deur middel van die teenwoordigheid van kohesie gereflekteer word.

Kohesiemerkergebruik het dus ’n belangrike teksvormende funksie (Halliday 2002:44). Carstens (2000:11) sê in hierdie verband dat kohesiemerkergebruik deur die skrywer bydra tot

[...] die wyse waarop die oppervlakstruktuur van ’n gegewe teks tot stand kom, m.a.w. die wyse waarop woorde volgens die struktuurpatrone van ’n besondere taal gekombineer word om effektiewe sinne te vorm wat weer tot die oordrag van effektiewe kommunikasie lei.

Ook Adeyemi (2017:70) redeneer dat, deur middel van die noukeurige plasing van woorde en frases in ’n teks, die skrywer ’n bepaalde idee vir die leser kan uitlig, of selfs kan aantoon dat bepaalde idees in ’n teks geskakel is.

Daarby is kohesie een van die beginsels van tekstualiteit (ook bekend as “principles of textuality”) wat bepaal of ’n teks ’n geslaagde stuk kommunikasie is (De Beaugrande en Dressler 1981:3–12). In samehang met ander beginsels, soos intensionaliteit, aanvaarbaarheid, informatiwiteit, kontekstualiteit en intertekstualiteit, bepaal hierdie aspekte die gehalte van tekste. Du Plessis en Bosch (1999:16, 26) het selfs De Beaugrande en Dressler (1981:3–12) se sewe standaarde van tekstualiteit, wat die kwaliteit van tekste bepaal, tot “twee superstandaarde/beginsels van tekstualiteit”, naamlik kohesie en koherensie, gereduseer.

Ten spyte van die feit dat die gebruik van kohesiemerkers linguistiese eenhede van saamgeflanste sinne onderskei, teksvormend optree, teksgehalte verbeter, én die feit dat die gebruik van kohesiemerkers aan effektiewe skrywers gekoppel word (Lourens en Bedeker 2004:50; Butler 2006:38), is min navorsing oor kohesiemerkergebruik deur moedertaalsprekers van Afrikaans gedoen. Hierdie navorsing word in die volgende afdeling kortliks bespreek. Uit die kontekstualisering kom die relevansie vir die ondersoek van moedertaalsprekers van Afrikaans se gebruik van taalvorme vir die realisering van leksikale kohesie na vore. Hierdie afdeling word afgesluit deur ’n beskrywing van die navorsingsvraag en -doelwit.

In afdeling 3 word die konseptueel-teoretiese raamwerk wat vir hierdie artikel geld, weergegee. In afdeling 4 word die navorsingsmetodologie van die empiriese ondersoek weergegee, waarna die bevindings in afdeling 5 bespreek word. In afdeling 6 word ’n samevatting van die inhoud van die artikel gegee en sowel die bydrae as beperkings van die studie word van nader omskryf.

 

2. Probleemstelling en motivering vir die studie

Wybenga (1988:34) het drie dekades gelede die volgende stelling binne die konteks van tekstuele eenheid gemaak: “Dit is ’n interessante kenmerk van die mens dat hy ’n eenheidsoekende wese is. Selfs op verskynsels waar daar klaarblyklik geen eenheid bestaan nie, dwing hy ’n eenheidstempel af.”

Die afdruk van ’n eenheidstempel deur middel van kohesiemerkergebruik (Weideman 2011:73) is iets wat jare later steeds relevant is, gemeet aan die omvangryke teoretiese besinning daaroor wat wêreldwyd, maar spesifiek in Suid-Afrika (in die besonder in en oor Afrikaans), bestaan. Binne Suid-Afrika (spesifiek met betrekking tot Afrikaans) lewer verskeie navorsers6 ’n bydrae tot hierdie veld.

’n Gaping wat geïdentifiseer is, is dat die meeste van die studies wat kohesiemerkergebruik deur moedertaalsprekers van Afrikaans ondersoek, hoofsaaklik op konjunksiemerkergebruik en universiteitstudente fokus (Esterhuizen en Wybenga 2000; Van Rooy en Esterhuizen 2011; Jordaan 2014, 2016; Meintjes 2015), terwyl oor moedertaalsprekers van Afrikaans op skoolvlak nie navorsing beskikbaar is nie. Ons poog om hierdie leemte te vul deur die bevindings van graad 6- en graad 9-leerders se gebruik van taalvorme vir die realisering van leksikale kohesie as kohesiemerker te ondersoek (vergelyk afdeling 4.3, waar die keuse van graad 6- en graad 9-leerders verduidelik word).

Leksikale kohesie is die ondersoekfokus van hierdie artikel, omdat taalvorme soos sinonieme en antonieme eksplisiet in die KABV van die intermediêre en senior fase as verbindingswoorde wat tydens die produksie van geskrewe tekste gebruik behoort te word, gelys word (DBO 2011a:43—78; DBO 2011b:30, 38, 40, 52–118). Tydens die Verdere Onderwys en Opleidingsfase (VOO-fase) word verbindingswoorde eerder beskou as taalvorme wat ’n verduideliking / oorsaak-en-gevolg-verhouding aandui, soos gevolglik, omdat, as gevolg van; woorde wat op ’n proses dui, byvoorbeeld eerste, tweede, derde; en woorde wat op eie standpunt dui, byvoorbeeld volgens my, na my mening, ek dink dat (DBO 2011c:33). Om aan te toon dat verbindingswoorde wel in die KABV ingesluit word, word dit in geel in die onderstaande uittreksel uitgelig.

Uittreksel 1. Die KABV vir Afrikaans Huistaal (intermediêre fase) maak melding van die gebruik van verbindingswoorde (DBO 2011a:43)

Leksikale kohesie is ook gekies vanweë die dominansie daarvan in skryfwerk. Studies betreffende leerderskryfwerk7 is onderneem deur Hubbard (1989) ten opsigte van leerders wat Afrikaans, Engels of bepaalde Afrikatale praat; Prinsloo (2002:122) ten opsigte van T2-sprekers van Afrikaans wat meestal Noord-Sotho, Tsonga of Venda as moedertaal het (); asook Kargozari, Ghaemi en Heravi (2012:30–1) ten opsigte van die skryfwerk van Irannese studente wat vreemdetaalsprekers van Engels is.

Ons poog om die volgende navorsingsvraag in hierdie navorsingsartikel te beantwoord: Watter taalvorme ter realisering van leksikale kohesie word deur Afrikaanssprekende graad 6- en graad 9-leerders in hul selfstandige skryfwerk gebruik?8

Die doel van die artikel is om leerderkorpusse te skep om te bepaal watter taalvorme vir die realisering van leksikale kohesie in Afrikaanssprekende graad 6- en graad 9-leerders se skryfwerk figureer. Die ontleding van leerderkorpusse vorm die empiriese ondersoek van hierdie artikel.

 

3. Konseptueel-teoretiese raamwerk

Stotsky (1983:437–41) en Stotsky (1986:279–81) se aangepaste model van Halliday en Hasan (1976) se raamwerk van leksikale kohesie word as basis vir die vorming van ’n konseptuele raamwerk gebruik (vergelyk afdeling 3.1). Die kohesie-teorie van Halliday en Hasan (1976) vorm die teoretiese raamwerk van hierdie artikel (vergelyk afdeling 3.2).

3.1 Konseptuele raamwerk

Die raamwerk van Stotsky (1983:437–41) en Stotsky (1986:279–81) is om verskeie redes gekies. Stotsky (1983, 1986) se raamwerk is eerstens op Halliday en Hasan (1976), die standaardwerk oor kohesie, gebaseer, en sy verfyn hul raamwerk nóg verder.9 Tweedens is Stotsky (1983:437–41) en Stotsky (1986:279–81) se raamwerk eksplisiet: Sy dui duidelik aan watter taalvorme leksikale kohesie realiseer, en sy illustreer hierdie taalvorme eksplisiet aan die hand van voorbeelde. In die derde plek kan Stotsky se raamwerk, aldus Carstens (1997:331), op ’n verskeidenheid tekste van toepassing gemaak word. In die intermediêre, senior en VOO-fase word verskillende tipes tekste juis geproduseer, waaronder verhalende en beskrywende opstelle, koerantberigte, dialoë, biografieë en vriendskaplike briewe (vir verdere voorbeelde kan DBO 2011a:19; DBO 2011b:41–49; DBO 2011c:34–40 geraadpleeg word). ’n Verdere oorweging vir die gebruik van haar raamwerk is die feit dat dit reeds deur ander Suid-Afrikaanse navorsers soos Van Tonder (1999) ten opsigte van Engels, en Pienaar (2009) ten opsigte van Afrikaans as meetinstrument gebruik is.

Slegs Stotsky (1983, 1986) se eerste subkategorie, naamlik semanties-verwante taalvorme, is vir hierdie studie relevant, omdat dit deur ’n stabiele verhouding gekenmerk word, ongeag of hulle gereeld saam voorkom, al dan nie (Stotsky 1983:438). Semanties-verwante taalvorme wat in Stotsky (1983, 1986) se raamwerk opgeneem is, is (i) herhaling, (ii) teenoorgesteldes, (iii) sinonieme en naby-sinonieme, (iv) insluiting en (v) afgeleide vorme.

Stotsky (1983:438) en Stotsky (1986:279) se tweede subkategorie, kollokasies (kollokatiewe en kollokasioneel-verwante woorde is sinonieme van die term kollokasies), verwys na woorde wat waarneembare verbande met mekaar toon op grond van die feit dat hulle gereeld met dieselfde onderwerp geassosieer word (Stotsky 1983:438). Stotsky (1983:438) gee ’n aantal woorde wat met dieselfde onderwerp verband hou, byvoorbeeld oorlog, bondgenootskap, personeel, strategiese beplanning, vernietiging, vyand se ekonomiese hulpbronne, leërmag, wreedheid, burgerlikes en generale (ons vertaling uit Engels). Hierdie woorde toon geen sistematiese semantiese verhouding met mekaar soos die eerste subkategorie (semanties-verwante taalvorme) nie. Om kollokatiewe in skryfwerk te gebruik verseker ook nie dat die leser die teks as kohesief gaan ervaar nie, aangesien die verwysingsraamwerk, bepaal deur leesondervinding, grootliks daartoe bydra dat die verwantskap tussen verskillende woorde herken word (Stotsky 1986:443; Esterhuizen 2002:60). Omdat hierdie kategorie volgens ons eerder met koherensie verband hou, is dit nie in die raamwerk wat vir die ontleding van die leerderkorpora gebruik is, ingesluit nie. (Hierdie raamwerk word in afdeling 3.1.3 gegee.)

In afdeling 3.1.1 word verklarings vir die verskillende semanties-verwante taalvorme in Stotsky (1983; 1986) se raamwerk, wat deel vorm van die metingsraamwerk van hierdie artikel, gegee. Indien nodig, word die betrokke taalvorme met subtipes aangevul.

3.1.1 Verklarings van die semanties-verwante taalvorme in Stotsky (1986, 1986) se raamwerk

(i) Herhaling

Die voorkoms van ’n identiese woord (toets x toets), identiese frase of idiomatiese uitdrukking (gee erkenning x gee erkenning), asook ’n woord wat met ’n fleksiemorfeem (in die vorm van ’n suffiks) eindig wat nie ’n ander woord skep nie (mooi x mooier), word deur Stotsky (1986:279–80) as vorme van herhaling beskou.

(ii) Teenoorgesteldes

Stotsky (1986:279) gee die volgende voorbeelde om die verskynsel teenoorgesteldheid (ook bekend as semantiese teëstelling volgens Bosman en Pienaar 2017:315 en antonimie volgens Carstens 2018:121) te illustreer: “simple x difficult” vertaal as eenvoudig x moeilik.

Stotsky (1983; 1986) identifiseer nie verskillende tipes antonieme nie, maar Bosman en Pienaar (2017:316–8) en De Stadler (1989:52–87) wel. Hulle onderskei tussen die volgende teenoorgesteldes: gradeerbare teenoorgesteldes (gradeerbare antonieme), byvoorbeeld koud x warm; komplementêre teenoorgesteldes, byvoorbeeld waar x onwaar; en omkeerbare teenoorgesteldes, byvoorbeeld pa x seun. De Stadler (1989:82–7) wys ook op twee tipes waarna Bosman en Pienaar (2017) nie verwys nie, naamlik idiomatiese teenoorgesteldes, byvoorbeeld sout x peper en ruimtelike opposisie, byvoorbeeld op x af.

(iii) Sinonieme en naby-sinonieme

Stotsky (1983:442; 1986:279) sluit die gebruik van leksikale items wat sinonieme van mekaar is as taalvorme vir die realisering van leksikale kohesie by haar raamwerk in. Sy gee, onder andere, die volgende voorbeelde: “area x size”, vertaal as area-grootte en “difficult x hard”, vertaal as moeilik x ingewikkeld.

’n Verdere bevinding rakende die klassifikasie van woordpare as sinonieme is dat hulle nie altyd sistematiese semantiese verhoudinge hoef te toon nie, maar selfs konteksgebonde kan wees. Woordpare wat oor die algemeen nie in die taal as sinonieme van mekaar beskou word nie, kan binne ’n bepaalde konteks wel as sinonieme gebruik word (De Stadler 1989:80).

(iv) Insluiting

Stotsky (1983; 1986) groepeer die taalvorme (i) hiponieme (subordinate), (ii) superordinate, (iii) lede van ’n geordende reeks en (iv) lede van ’n ongeordende reeks saam onder die kategorie insluiting (oftewel “inclusion”). Voorbeelde van elkeen word hier onder gegee:

  • voëls, soogdiere, visse, reptiele, amfibieë (hiponieme) → vorms van lewe (superordinaat)
  • Maandag → Dinsdag → Woensdag (gekoördineerde lede in ’n geordende reeks)
  • onderwyser → skoonmaker → kok (gekoördineerde lede in ’n ongeordende reeks)

Stotsky (1983; 1986) verwys geensins na die groepering van algemene woorde of epiteta saam met subordinate, superordinate en gekoördineerde lede in geordende en ongeordende reekse nie, hoewel ander navorsers soos Salkie (1995:18) dit wel so beskou. Met inagneming van Salkie (1995:18) se uitspraak, is Stotsky (1983; 1986) se raamwerk met epiteta uitgebrei. Salkie (1995:18) definieer epiteta as die mees ekstreme vorm van ’n superordinaat. Voorbeelde van epiteta (enkelvoud: epiteton), is ding, goed, ou, kêrel, man en vrou wat neutrale waardes uitdruk; en vent, skelm, skaap, hoender, jakkals, skurk, rakker, klits, stouterd, dingetjie en ou dier wat as emotiewe etikette optree, omdat hulle negatiewe of waarderende waardes uitdruk.

(v) Afgeleide vorme

Stotsky (1983:434; 1986:280) identifiseer die volgende tipes afgeleide vorme: (i) die gebruik van voor- of agtervoegsels (afleidingsmorfeme) by ’n woord om woordpare te skep wat tot verskillende woordklasse behoort (byvoorbeeld voordeel x voordelig) en (ii) die gebruik van woorde met dieselfde voor- of agtervoegsels, omdat die skrywer ’n bepaalde doel daarmee wil bereik (byvoorbeeld realisties x idealisties). ’n Tipe afgeleide vorm wat Stotsky (1983; 1986) nie verreken nie, is omskakeling. Booij (2005:5) en Quirk, Greenbaum, Leech en Svartvik (1985:1558) verwys wel hierna en omskryf dit as woorde wat na ’n ander woordklas verander sonder dat enige afleidingsmorfeme (pre- of suffikse) eksplisiet bygevoeg word, byvoorbeeld “release” (die handeling om vry te laat) en “release” (bedoelende “vrylating”).

In afdeling 3.1.2 word ’n bespreking gegee van ’n verdere semanties-verwante taalvorm waarmee Stotsky (1983; 1986) se raamwerk uitgebrei kan word.

3.1.2 Uitbreiding van Stotsky se raamwerk

Stotsky (1983; 1986) se indeling maak nie voorsiening vir die insluiting van afwisselende naamwoordstukke nie. De Stadler (1989:425) wys daarop dat dit slegs nodig is om ’n naamwoord(stuk) te gebruik “wat herinner aan die antesedent”; met ander woorde, slegs afwisselende leksikale naamwoordstukke (of afwisselende naamwoordstukke) word gebruik om aan te dui dat daar steeds oor dieselfde saak gepraat word, sonder dat die volle beskrywing van die saak (dit wil sê die herhaling van die volle naamwoordstuk) gegee word (De Stadler 1989:425). Ook Taljaard (1992:12), ten opsigte van Afrikaanse tekste, en De Beaugrande en Dressler (1981:49) en Cook (1989:19), met verwysing na Engelse tekste, wys op die gebruik van afwisselende naamwoordstukke en noem dit onderskeidelik “herhaling by wyse van parafrase”, “paraphrase” en “elegant repetition”. Cook (1989:19) illustreer byvoorbeeld hoe die saak pynappel in ’n teks bekendgestel kan word deur “pineapple” en dan afgewissel kan word met “tropical luxury”.

In afdeling 3.1.3 word die metingsraamwerk wat vir die ontleding van die leerderkorpusse gebruik is, gegee.

3.1.3 Die metingsraamwerk wat in hierdie studie gebruik is

Hier onder word die metingsraamwerk weergegee waaraan die leerderkorpusse gemeet is ten einde die graad 6- en graad 9-leerders se selfstandige gebruik van verskillende taalvorme van leksikale kohesie te bepaal. Die taalvorme wat in rooi en vetdruk aangedui is, verwys na die uitbreidings aan Stotsky (1983, 1986) se raamwerk.

Figuur 1. Metingsraamwerk wat vir die korpusontleding saamgestel is

3.2 Teoretiese raamwerk

Halliday en Hasan (1976) se teorie oor kohesie vorm die teoretiese basis van hierdie studie. Volgens hulle is kohesie ’n semantiese konsep, want dit hou verband met die skep van betekenisverbande binne ’n teks. Dit is dié betekenisverbande wat bydra tot die beskouing dat ’n teks ’n semantiese eenheid is (Halliday en Hasan 1976:293).

’n Teks word deur kohesie gekenmerk wanneer die interpretasie van ’n talige element van dié van ’n ander talige element afhanklik is (Haliday en Hasan 1976:4). Die potensiaal om ’n kohesiewe teks te skep, is geleë in hulpbronne (of kohesiemerkers) soos verwysing, plaasvervanging, ellips, konjunksie en leksikale kohesie tot die taalgebruiker se beskikking (vergelyk afdeling 1.1 waar ’n verduideliking van die vyf tipes kohesiemerkers reeds gegee is). Halliday en Hasan (1976:5) beklemtoon ook dat wanneer hierdie kohesiemerkers gebruik word, hulle gerealiseer moet word in die vorm van talige elemente (of taalvorme) én dat hierdie talige element (of taalvorm) met ’n ander talige element ’n verband móét toon. Kohesiekettings (of “cohesive ties”) moet met ander woorde geskep word deur óf die grammatika óf die leksikon van die taal te gebruik ten einde ’n teks as kohesief te bestempel (Halliday en Hasan 1976:6).

Kohesiekettings kan binne dieselfde sin of oor sinsgrense10 heen voorkom (Halliday en Hasan 1976:8), hoewel Halliday en Hasan (1976:8) van mening is dat kohesie binne sinne eintlik minder prominent is. Hulle redeneer dat die sin saamhang weens die grammatikale struktuur daarvan, sonder dat ’n kohesieketting teenwoordig hoef te wees. Hulle voeg nietemin by dat kohesie nie ’n strukturele verband is nie en daarom nie deur sinsgrense beïnvloed word nie.

 

4. Empiriese ondersoek

4.1 Doel van die ondersoek

Leerderkorpusse is geskep om te bepaal watter taalvorme ter realisering van leksikale kohesie in Afrikaanssprekende graad 6- en graad 9-leerders se skryfwerk figureer. Die ontleding van leerderkorpusse vorm die empiriese ondersoek van hierdie artikel.

4.2 Navorsingsontwerp, -benadering en -paradigma

Omdat ons eenmalig en op ’n bepaalde tydstip die voorkoms van taalvorme vir die realisering van leksikale kohesie in die selfstandige skryfwerk van Afrikaanssprekende graad 6- en graad 9-leerders wou vasstel, is ’n eenmalige, tweeledige dwarsdeursnitopname-ontwerp gebruik (Creswell 2014:403; Gray 2014:35).

’n Fenomenologiese navorsingsbenadering is vir die doeleindes van hierdie artikel gebruik. ’n Fenomenologiese benadering is relevant aangesien die essensie van ’n bepaalde verskynsel, naamlik taalvorme vir die realisering van leksikale kohesie, vasgestel wou word (Merriam 2009:23). Ons wou vasstel of die taalvorme vir die realisering, wat in Stotsky se raamwerk opgeneem is, wel in Afrikaanssprekende graad 6- en graad 9-leerders se skryfwerk figureer, asook wat die aard en funksie is van dié wat wel gebruik is.

Die navorsing word binne ’n interpretivistiese paradigma geplaas vanweë die feit dat ’n bepaalde werklikheid ondersoek word (in hierdie geval die gebruik van taalvorme vir die realisering van leksikale kohesie) en kennis hoofsaaklik verkry word deur die “[i]nterpretasie van die werklikheidsgebeure” (Lombard 2016:9).

4.3 Steekproef en etiese oorwegings

Ons het op graad 6 en graad 9 besluit vanweë die feit dat hierdie twee grade onderskeidelik die laaste grade van die intermediêre skoolfase (graad 4–6) en die senior fase (graad 7–9) verteenwoordig. Dit sou logieserwys sin maak om ook graad 12-leerders se skryfstukke te bekom, aangesien graad 12 die einde van die VOO-fase verteenwoordig, maar omdat graad 12-leerders met voorbereiding vir die matriekeindeksamen besig sou wees tydens die beplande insamelingsperiode, is by graad 6 en graad 9 volstaan.

Alvorens ons met die insameling van die data kon begin, is etiekklaring by die Etiekkomitee van die Noordwes-Universiteit verkry (etieknommer: NWU-00095-14-A2). Die toestemming van die Distriksdirekteur van die betrokke skooldistrik, die skoolhoofde van die betrokke skole en die Afrikaansonderwysers van die betrokke skole (wat Afrikaans vir graad 6- en graad 9-leerders onderrig) is verkry. Om die selfstandige skryfwerk van die betrokke graad 6- en graad 9-leerders te kon gebruik, is ingeligte instemming van die leerders sowel as toestemming van ouers skriftelik verkry. Daarin is die aard en die doel van die navorsing beskryf en het ons die vrywillige deelname aan die navorsing gewaarborg, dit duidelik gemaak dat die deelnemers te enige tyd kon onttrek en die deelnemers verseker dat vertroulikheid ten alle tye eerbiedig sou word (vergelyk afdeling 4.4 hierna).

4.4 Data-insamelingsmetodes

Om data te kon insamel rakende skoolleerders se selfstandige gebruik van die taalvorme vir die realisering van leksikale kohesie, is Stotsky (1983; 1986) se raamwerk en die uitbreiding daarvan gebruik. Twee leerderkorpusse is as bronne van data gebruik. Die twee korpusse is uit 200 graad 6- en 200 graad 9-leerders se skryfstukke saamgestel, en bestaan onderskeidelik uit 20 723 en 22 171 woorde. Die verskillende tipes skryfstukke wat van leerders in graad 6 en graad 9 bekom kon word en waaruit die twee korpusse saamgestel is, word in tabel 1 hier onder aangedui.

Tabel 1. Samestelling van die graad 6- en graad 9-korpus

Graad 6-korpus

Graad 9-korpus

Koerantberigte, verhalende opstelle, beskrywende opstelle, dialoë/dramas, vriendskaplike briewe, stories, biografieë, paragrawe, resensies, kortverhale, fabels, spookstories, legendes

Beredenerende opstelle, verhalende opstelle, argumentatiewe opstelle, resensies, dialoë, dagboekinskrywings, vriendskaplike briewe, formele briewe

 

Die eerste 100 woorde van elkeen van die 200 graad 6-skryfstukke en 200 graad 9-skryfstukke is deur ’n bekwame tikster verbatim in MS Word ingesleutel en in .txt-formaat gestoor. Daarna het ons gekontroleer of die skryfstukke verbatim ingesleutel is, en aanpassings gemaak waar dit nodig was. Elkeen van die skryfstukke is geanonimiseer deur die toekenning van ’n kode. Die kode wat aan elke skryfstuk toegeken is, is verder uitgebrei deur te spesifiseer wat die geslag van die leerder is (S of M) en watter tipe skryfstuk bekom is. ’n Voorbeeld van hoe so ’n kode uiteindelik gelyk het, is “302 S VB”, wat beteken dat deelnemer 302, wat ’n seun is, ’n vriendskaplike brief geskryf het.

4.5 Data-ontleding

Vervolgens het ons elkeen van die skryfstukke meer as een maal woord vir woord gelees en volgens die metingsraamwerk ontleed (vergelyk afdeling 3.1.3). Elke taalvorm wat effektief vir die realisering van leksikale kohesie in die graad 6- en graad 9-korpus gebruik is en in die metingsraamwerk opgeneem is, is gekodeer. Die gebruik van ATLAS.ti, wat vir die kodering van die data gebruik is, bevorder die bydrae van die studie, want dit verskil van bestaande Afrikaanse korpusstudies wat WordSmith Tools as korpusanalisesagteware gebruik.

Die effektiewe gebruik van taalvorme vir die realisering van leksikale kohesie wat skakels met woorde binne dieselfde sin toon (d.i. sinsinterne kohesiemerkergebruik) en taalvorme wat betekenisverbande met woorde oor sinsgrense heen toon (d.i. sinseksterne kohesiemerkergebruik) is met behulp van ATLAS.ti gekodeer.

Nadat die effektiewe gebruik van elke taalvorm ter realisering van leksikale kohesie met behulp van ATLAS.ti gekodeer is, het ons ATLAS.ti gebruik vir die skep van ’n sintetiserende verslag wat aandui hoeveel keer elke taalvorm in die graad 6- en graad 9-korpus gefigureer het. Hierdie frekwensies is, soos gebruiklik in die korpuslinguistiek, na kohesiemerkergebruik per 1 000 woorde genormaliseer. Die verslag is gebruik om in afdeling 5 verslag te lewer oor die aantal kere wat elke taalvorm effektief ter realisering van leksikale kohesie gebruik is (vergelyk tabel 2 in afdeling 5).

Ons het die betroubaarheid van die bevindinge wat uit die korpusondersoek voortgespruit het, op verskeie wyses verseker. Betroubaarheid is in die eerste plek verseker deur vier verkennende ondersoeke by twee laerskole en twee hoërskole uit te voer. Altesaam 427 leerders het aan die verkennende ondersoeke deelgeneem. Die doel hiermee was om vas te stel of die aangevulde raamwerk van Stotsky (oftewel die metingsraamwerk – vergelyk afdeling 3.1.3) bruikbaar kan wees om vas te stel watter taalvorme vir die realisering van leksikale kohesie in die taalomgewing van Afrikaanse leerdertekste gebruik word om die teks meer kohesief te maak. Betroubaarheid is in die tweede plek verseker deurdat die skryfstukke meer as een maal met dieselfde metingsraamwerk ontleed is ten einde te bepaal of dieselfde resultate met herhaalde metings verkry word.

 

5. Bevindings

Al die verskillende taalvorme vir die realisering van leksikale kohesie wat in die metingsraamwerk opgeneem is, het in die graad 6- en graad 9-korpus gefigureer (vergelyk tabel 2 hier onder). Parallelisme as ’n vorm van herhaling, wat nie in die metingsraamwerk voorkom nie, is ook aangewend om leksikale kohesie te realiseer. In die volgende afdelings word die gebruik van taalvorme vir die realisering van leksikale kohesie in die leerderkorpusse in fyner besonderhede bespreek en met voorbeelde uit die korpusse toegelig. Die voorbeeldsinne met behoud van grammatikale foute word gegee.

Tabel 2. Effektiewe gebruik van die taalvorme vir die realisering van leksikale kohesie

Taalmiddel vir die realisering van leksikale kohesie

Frekwensie: genormaliseer na persentasie voorkoms per 1 000 woorde

Graad 6

Graad 9

Herhaling

36,433

32,114

Sinonieme of naby-sinonieme

0,917

1,037

Teenoorgesteldes

3,909

4,014

Insluiting

2,654

2,255

Afgeleide vorme en die herhaling van afgeleide vorme

1,206

1,037

Afwisselende leksikale naamwoordstukke

3,957

2,436

Totaal

49,076

42,893

 

5.1 Herhaling

Herhaling is die taalvorm wat die meeste in die graad 6- en die graad 9-korpus gebruik is om leksikale kohesie te realiseer. ’n Totaal van 181 van die 200 graad 6-deelnemers en 180 van die 200 graad 9-deelnemers het herhaling as taalmiddel gebruik om kohesie deur middel van leksikale kohesie te bewerkstellig – 91% van die graad 6-deelnemers en 90% van die graad 9-deelnemers.

Voorbeelde van die graad 6- en graad 9-leerders se gebruik van herhaling, soos gemeet aan die voorbeelde van herhaling wat in die metingsraamwerk voorkom, word in voorbeeld 1 tot 3 uiteengesit.

Voorbeeld 1: D139 (Verhalende opstel): Enkele klein maar belangrike uitvindsels het ons lewe drasties verander. Kom ons kyk na die bolpuntpen. Die Hongaar Laszlo Josef Biro het in 1938 die patente vir die pen gekry. Dit was van groot hulp vir vlieëniers want die penne het nie gelek nie. (graad 6) (Penne is slegs die verbuiging van pen en dit is daarom nog steeds ’n vorm van herhaling.)

Voorbeeld 2: D211 (Vriendskaplike brief): Hello tannie, hoe gaan dit nog daar? [...] Met my gaan dit redelik goed. My sestiende verjaarsdag is om die draai en ek het amper uit my vel uit gespring toe ek hoor ek kan ’n partytjie hou. En ek wil baie graag hê tannie en oom Tienie moet dit bywoon. ’n Partytjie is nooit lekker nie en altyd verveelig [sic] sonder tannie en oom Tienie. My mond water al so lank vir daai lekker plaasbrode van tannie en dit sal vir my die wêreld beteken as tannie ’n paar kan bak vir my partytjie. (graad 9) (Hierdie voorbeeld dui op die gebruik van identiese woorde om leksikale kohesie te bewerkstellig).

Voorbeeld 3: D40 (Verhalende opstel) (identiese herhaling): Dit het alles in 2010 in graad 5 begin toe ek ’n nuwe foon as ’n geskenk ontvang het. Die eerste ding wat ek gedoen het toe ek my foon gekry het, het MXIT op my foon op gelaai, elke dag was ek op my foon. (graad 9) (Hierdie tipe herhaling word identiese herhaling genoem.)

Herhaling kan om verskillende redes gebruik word. Ons sal hierdie redes aan die hand van voorbeeld 1 tot 3 verduidelik. In voorbeeld 1 is penne waarskynlik herhaal omdat die herhaling daarvan die uitvindsel van die pen meer beklemtoon as die blote gebruik van ’n voornaamwoord soos dit of hulle.

In voorbeeld 2 word die aanspreekvorm tannie in opeenvolgende sinne gebruik. Wanneer daar met oueres of meerderes gepraat word, is dit gebruiklik dat die antesedent herhaal word, in plaas daarvan dat ’n voornaamwoord soos jy, jou of u gebruik word. Daar is nie ’n semiformele voornaamwoord in Afrikaans tussen u en jy om die tannie mee aan te spreek nie en daarom word die antesedent-naamwoord herhaal.

In voorbeeld 3 word die antesedent foon herhaal. Die rede waarom die antesedent-naamwoord herhaal is, is waarskynlik om onduidelikheid uit te skakel. Meer as een anaforiese sisteem is in hierdie teks vervleg: Daar word verwys na die saak Mxit, ’n selfoontoepassing deur middel waarvan gekommunikeer word, en daar word van selfone gepraat. As daarop in plaas van die herhaling van selfone gebruik sou word, soos in “Dit het alles in 2010 in graad 5 begin toe ek ’n nuwe foon as ’n geskenk ontvang het. Die eerste ding wat ek gedoen het toe ek my foon gekry het, het MXIT op my foon op gelaai, elke dag was ek daarop”, sou dit by die leser twyfel wek oor dít waarna daarop verwys. Daarop kan óf na Mxit óf na sy foon verwys.

Ons het ’n taalvorm wat nie in die metingsraamwerk ingesluit is nie, in een van die 200 graad 6-deelnemers en een van die graad 9-deelnemers se selfstandige skryfwerk geïdentifiseer. Die taalvorm wat in die voorbeelde verder aan (voorbeeld 4 en voorbeeld 5) gebruik word, staan as parallelisme bekend. Cook (1989:16) definieer parallelisme as ’n betekenisverhouding wat ontstaan wanneer die vorm van een sin of frase in dieselfde of in ’n opeenvolgende sin geëggo word. Van den Berg (2002:172) gee die volgende voorbeeld om parallelisme te illustreer: “want die kraai se afwesigheid was aan elke eettafel teenwoordig, in elke gesprek, in elke stilte”.

In voorbeeld 4 (uit die graad 6-korpus) en voorbeeld 5 (uit die graad 9-korpus) hieronder word die herhaling van bepaalde sintaktiese patrone (dit wil sê parallelisme) met verskillende kleure aangedui. Die sinsdele wat dieselfde sintaktiese patroon het, word in dieselfde soort lettertipe geskryf.

In voorbeelde 4 en 5 hier bo word parallelisme moontlik gebruik om die magiese eienskappe van die Here te versterk. Die gebruik hiervan het dus ’n intensiverende effek. Die gebruik van parallelisme dra dus belangrike inligting oor (Van den Berg 2002:174).

5.2 Sinonieme en naby-sinonieme

Sinonieme is taalvorme vir die realisering van leksikale kohesie wat selde in die selfstandige skryfwerk van die betrokke graad 6- en graad 9-deelnemers gebruik is. Stotsky (1983:440) wys daarop dat die ontbreking van sinonieme in leerderskryfwerk dui op ’n onderontwikkelde woordeskat om die betekenisverskynsel uit te druk. Die probleem is dat die graad 6- en graad 9-deelnemers nie sinonieme gebruik nie, omdat hulle skynbaar oor ’n onderontwikkelde woordeskat beskik. Stotsky (1983:440) verduidelik hierdie saak soos volg:

[...] repetition, synonymy, contrast, or inclusion in a set, proceed from certain intellectual operations, such as classifying, categorizing, noting likenesses or differences, that in themselves do not need to be taught. The human mind by its very nature develops and applies these operations to the natural world without instruction. What writers do need to develop is a huge repertory of words for expressing these operations [...].

Die geldigheid van hierdie aanname is egter nie in die ondersoek getoets nie; daarom kan geen aannames ten opsigte van die deelnemers van hierdie studie gemaak word nie. Verslag kan wel gedoen word oor die effektiewe gebruik van sinonieme.

Enkele voorbeelde hiervan is:

Voorbeeld 6: D23 (Storie): Dis nie ’n inbraak nie, dis ’n ontvoering. So skelm kom in gryp die dogter, dogter skree, ma word waker probeer hom stop, word geskiet in die skouer en skelm weg. Ek het vinger afdruke by die ruit waar die skurk in gekom het, ek sal vir mike stuur dat hy toetse doen [sic]. (graad 6)

Voorbeeld 7: D19 (Biografie): Hy het loskopstut vir die Springbokke, Cheetahs en natuurlik die Blou Bulle gespeel. [...] In 1994 draf hy uit vir die Springbokke. (graad 6)

Voorbeeld 8: D65 (Resensie): Jy begin in die stad, Fairhaven, in ’n Aston Martin motor en jou eerste missie is om jou eerste kar te gaan haal. (graad 9)

Voorbeeld 9: D202 (Vriendskaplike brief): Ek skryf hierdie brief met groot hoop! Tannie en oom weet hierdie is ’n groot jaar, wat vir my voorlê. Nee, DIE groot jaar! Julle wonder seker waarvan praat sy, is die kind van haar loodjie getik? Maar nee, ek is nie mal nie, want ek word 16 [sic]! (graad 9)

Die gebruik van teenoorgesteldes as taalvorm vir die realisering van leksikale kohesie kom meer gereeld as sinonieme in beide die korpusse voor en word vervolgens beskryf.

5.3 Antonieme

Ons het die graad 6- en graad 9-korpus ontleed aan die hand van tipes teenoorgesteldes wat in die metingsraamwerk uiteengesit is, naamlik gradeerbare antonieme, komplementêre teenoorgesteldes, omkeerbare teenoorgesteldes, idiomatiese teenoorgesteldes en ruimtelike opposisie (vergelyk afdeling 3.1.3 waar verdere voorbeelde in die metingsraamwerk gegee word). ’n Ander tipe antoniem is ook in enkele deelnemers se skryfwerk geïdentifiseer, naamlik implisiete teenoorgesteldes (ons eie term hiervoor) wat nie, soos jonk x oud of seun x pa, eksplisiet is nie.

(i) Gradeerbare antonieme

Gradeerbare antonieme is adjektiewe wat gradeerbaar is; met ander woorde, die lede van hierdie gradeerbare woordpaar kan trappe van vergelyking neem, met graadwoorde soos baie en geweldig verbind en in vergelykende konstruksies gebruik word (Bosman en Pienaar 2017:316).

Vet x maer en jonk x oud kom in die onderskeie korpusse voor (vergelyk voorbeeld 10 en voorbeeld 11):

Voorbeeld 10: D211 (Dialoog):

Spreker A: Ek is nou baie vet.
Spreker B: (Kyk na kat se pens) Maar jy is nog maer. (graad 6)

Voorbeeld 11: D363 (Argumentatiewe opstel): Ek dink elke kind van Hoërskool tot Laerskool het al hul self gevra, “HOE LYK MY TOEKOMS”. Elke kind van jonk tot oud het al van Laerskool af al beplan wat gan hulle doen en hoe gan hulle dit doen om dit reg te kan kry [sic]. (graad 9)

Van die 62 graad 6-deelnemers en 71 graad 9-deelnemers wat teenoorgesteldes gebruik het, het onderskeidelik nege en sewe deelnemers gradeerbare antonieme gebruik.

(ii) Komplementêre teenoorgesteldes

Komplementêre teenoorgestelde verwys na die ontkenning van die een lid van die komplementêre paar en die bevestiging van die ander lid (Bosman en Pienaar 2017:316; De Stadler 1989:84).

Voorbeelde van komplementêre teenoorgesteldes uit die graad 6- en graad 9-korpus is:

Voorbeeld 12: D161 (Vriendskaplike brief): Toe hul eers ingetrek het was alles doodnormaal. Tot so twee weke terug het ’n paar eienaardige gebeurtenisse kop uit gesteek. (graad 6)

Voorbeeld 13: D486 (Resensie): Kat en muis is weer in ’n stryd vir lewe en dood. (graad 9)

Van die 62 graad 6-deelnemers en 71 graad 9-deelnemers wat teenoorgesteldes gebruik het, het 42 van die graad 6-deelnemers en 46 van die graad 9-deelnemers komplementêre teenoorgesteldes gebruik.

(iii) Omkeerbare teenoorgesteldes

Omkeerbare teenoorgesteldes impliseer nie die ontkenning van die teenoorgestelde item nie (De Stadler 1989:86). “Die een lid (sintakties beskou) is die omgekeerde van die ander” (Bosman en Pienaar 2017:317).

’n Voorbeeld van ’n omkeerbare teenoorgestelde in die ondersoekte tekste van graad 6 is:

Voorbeeld 14: D109 (Dialoog): Eerste skool op die maan. Dit is die jaar 3000 en klas is gepak. Juffrou Mars staan voor in die klas en verwelkom al die kinders. (graad 6)

Voorbeeld 15: D336 (Vriendskaplike brief): [...] Ek het jou al vertel van daardie “nomination band” wat ek al hoe lank soek! Wel, ek het hom uiteindelik gekry. Rocka Bella in Klerksdorp verkoop dit en ek is so opgewonde dat ek dit het. My Ma en Pa het besluit om dit vir my te koop vir Kersfees. (graad 9)

In voorbeeld 15 staan koop en verkoop in ’n omgekeerdheidsverhouding, want Rocka Bella verkoop ’n “nomination band” aan die spreker en die spreker koop die “nomination band” van Rocka Bella.

Slegs vier van die 62 graad 6-deelnemers en ses van die 71 graad 9-deelnemers het omkeerbare teenoorgesteldes gebruik.

(iv) Idiomatiese teenoorgesteldes

Idiomatiese teenoorgesteldes is woordpare wat “tradisioneel as teenoorgesteldes van mekaar beskou kan word, hoewel dit nie logieserwys so is nie” (De Stadler 1989:87). Enkele voorbeelde ter illustrasie van idiomatiese teenoorgesteldes uit die korpusse van hierdie studie is:

Voorbeeld 16: D162 (Dialoog): Ek gaan my ma roep, sy is groot en sterk en sal jou baie seer maak, hoor vir my goed Hond. (sê Kat vreeslik bang) (graad 6)

Voorbeeld 17: D486 (Resensie): Die eindelose kat en muis speelietjie [sic] word in ’n kinderlike manier uitgebeeld maar trek nog jonk en oud se aandag. (graad 9)

Drie van die 62 graad 6-deelnemers en twee van die 71 graad 9-deelnemers wat teenoorgesteldes gebruik het, het idiomatiese teenoorgesteldes ingespan.

(v) Ruimtelike opposisie

’n Ander vorm van teenoorgesteldheid, naamlik ruimtelike opposisie, sluit woordpare in soos op x af, kom x gaan, arriveer x vertrek (De Stadler 1989:86). Vergelyk as voorbeelde:

Voorbeeld 18: D26 (Storie): Ek gaan nooit weer so ver hardloop nie sê Ivan. Ek het nog nooit 10 keer op en af by die bult gehardloop nie, hyg Danie. (graad 6)

Voorbeeld 19: D384 (Dagboek): Ons het vanoggend lekker vroeg opgestaan, in die kar gespring en vertrek na Onsseepkans in die Noord-Kaap. […] Ons het eers laat die Vrydagaand daar gearriveer en maar vroeg gaan slaap, onbewus van wat die volgende dag vir ons inhou. (graad 9)

Ruimtelike opposisie het slegs in een van die 62 graad 6-deelnemers en drie van die 71 graad 9-deelnemers se skryfstukke voorgekom.

(vi) Implisiete antonieme

Salkie (1995:25) verwys nie na implisiete teenoorgesteldes wanneer hy die volgende uitspraak oor teenoorgesteldes maak nie, maar ons is van mening dat dit ’n goeie verklaring van implisiete teenoorgesteldes is: “When a text expresses a contrast, it isn’t just straightforward opposites like big and small that you should look for. Whatever words the writer wants to contrast are potentially analysable as opposites.”

Vergelyk die onderstaande voorbeelde wat ons as implisiete teenoorgesteldes beskou. Die vetgedrukte woorde is die woorde wat implisiet teenoorgesteldes van mekaar is.

Voorbeeld 20: D255 (Paragraaf): My Superheld kan enige iets doen Hy kan op water loop, storms stil maak Hy kan siekes genees, verlamdes laat loop Hy kan mense uit die dood opwek. (graad 6)

Voorbeeld 21: D176 (Beskrywende opstel): Hoor hoe raas die stilte in ’n plek met geen siel in sig. (graad 9)

In voorbeeld 20 hier bo wil die skrywer deur middel van implisiete teenoorgesteldes (in vetdruk aangedui) op die almag van die Here wys. In voorbeeld 21 is die teenoorgesteldheid opmerklik in die stilte wat raas (in vetdruk aangetoon).

Hoewel dit betreklik min gebruik is in vergelyking met herhaling as taalvorm, het die deelnemers, soos blyk uit die bostaande bespreking, verskillende tipes teenoorgesteldes gebruik om teenoorgestelde betekenisverhoudings tussen woorde aan te dui en kohesie te verwesenlik. Teenoorgesteldes is ook meer dikwels as sinonieme en afgeleide vorme gebruik.

5.4 Insluiting

Al die taalvorme vir die realisering van leksikale kohesie wat in die metingsraamwerk as vorme van insluiting beskou word (vergelyk afdeling 3.1.3), naamlik hiponieme, superordinate en gekoördineerde lede in geordende en ongeordende reekse en epiteta kom in die korpusse voor.

(i) Hiponieme en superordinate

Voorbeelde hiervan is:

Voorbeeld 22: D89 (Storie): Die groot verskeidenheid van al die pragtige plante in ons woud-agtige [sic] tuin. [...] Ek kry weer koue rillings wat teen my ruggraat afhardloop. Ek dink terug aan die dag wat my ouma nog die katjiepiering voor my kamer natgegooi het. (graad 6)

Voorbeeld 23: D244 (Verhalende opstel): Varkie! Roep ek my hond. Die klein “Jack Russel” kom daar in gehardloop met ’n stink spoed. (graad 9)

Voorbeeld 24: D48 (Biografie): Hansie Cronje is gebore op 9 July 1978. Hy was Suid-Afrika se krieket kaptein [sic]. Hy het teen Indië, Astralië en nog baie ander lande gespeel. (graad 6)

Voorbeeld 25: D303 (Opstel): Hulle sê jou huis is waar jou hart is. My hart lê in Potchefstroom. Daar is niks in die wêreld wat sal verander hoe ek oor dié dorp voel nie. (graad 9)

Nege van die 200 graad 6-deelnemers en sewe van die 200 graad 9-deelnemers het hiponiem-superordinaat-kohesiekettings ingespan, en 24 graad 6- en 16 graad 9-deelnemers het hiponieme as die tweede lid van ’n kohesieketting gebruik.

(ii) Gekoördineerde lede in geordende en ongeordende reekse

Vergelyk die volgende voorbeelde:

Voorbeeld 26: D26 (Storie): Moenie worrie nie sê Danie ek sal betaal, wat gaan ons kry Debonieers, Panaroti’s of Romans [sic]? (graad 6)

Voorbeeld 27: D9 (Storie): Vandag is dit skool se eerstespan hokkie proewe. Daar was graad 4’s 5’s 6’s en 7’s wat gespeel het. (graad 6)

Voorbeeld 28: D18 (Verhalende opstel): facebook, twitter [sic], Pinterest en die lys gaan aan. Is dit die moeite werd? (graad 9)

Voorbeelde 26 en 28 illustreer die gebruik van gekoördineerde lede in ongeordende reekse: In voorbeeld 27 word ’n klomp pizzaplekke genoem en in voorbeeld 41 word tipes sosialemedia-platforms gelys. Voorbeeld 40 is ’n voorbeeld van gekoördineerde lede in geordende reekse. Die deelnemer lys skoolgrade in ’n stygende orde: “graad 4’s 5’s 6’s en 7’s”.

Gekoördineerde lede van geordende en ongeordende reekse is ook selde ingespan (0.627 en 0.902 keer per 1 000 woorde in die graad 6- en graad 9-korpus onderskeidelik). Hoewel dit minder as een keer per 1 000 woorde vir die realisering van leksikale kohesie gebruik is, het dit nogtans in twaalf van die 200 graad 6-deelnemers en sewe van die 200 graad 9-deelnemers se skryfstukke voorgekom.

(iii) Epiteta of algemene woorde

’n Verdere taalmiddel deur middel waarvan leksikale kohesie gerealiseer word, naamlik epiteta, het in ses van die 200 graad 6-deelnemers en twaalf graad 9’s se skryfwerk voorgekom.

Ponelis (1979:582) en Salkie (1995:18) wys daarop dat epiteta se leksikale betekenis besonder wyd is, omdat hulle na bykans enige konkrete selfstandige naamwoord kan verwys. Die vetgedrukte woorde in die volgende sinne is voorbeelde van epiteta wat in die korpusse voorkom.

Voorbeeld 29: D32 (Opstel): Sport... Sport is seker die lekkerste ding waaraan ’n mens kan deelneem. (graad 9)

Voorbeeld 30: D16 (Verhalende opstel): En om nie eers van daai mense se koffie te praat nie, dit was vrek sleg, ek moes letterlik die goed by my keel af wirg [sic]. (graad 9)

Voorbeeld 31: D63 (Verhalende opstel): Ek sit in die tronk, al vir amper twee jaar. Môre sal dit presies twee jaar wees, dan is ek klaar met die plek. (graad 9)

Epiteta of algemene woorde het, soos superordinate, selde in die graad 6- en graad 9-korpus voorgekom: onderskeidelik 0.627 en 0.902 keer per 1 000 woorde.

Uit die voorafgaande bespreking blyk dit dat semantiese verbande op die vlak van woordeskat (d.i. leksikale kohesie) nie slegs deur middel van die gebruik van herhaling, sinonieme en teenoorgesteldes gerealiseer word nie, maar ook met behulp van hiërargiese verhoudings wat tussen hiponieme en superordinate geskep word. Leksikale kohesie word ook met behulp van gekoördineerde lede in geordende en ongeordende reekse, asook die gebruik van epiteta as taalvorme, gerealiseer.

5.5 Afgeleide vorme

Die graad 6- en graad 9-korpus is gemeet aan die volgende tipes afgeleide vorme, soos opgeneem in die metingsraamwerk: (i) voor- of agtervoegsels wat by woorde gevoeg word om woordpare te skep wat verskillende betekenisse het en aan verskillende woordklasse behoort en (ii) woorde met dieselfde voor- of agtervoegsels. Woorde wat vormlik nie ooreenstem nie, byvoorbeeld bal (voorwerp wat tydens ’n sportsoort gebruik word) teenoor bal (’n dans), is ’n verdere voorbeeld van afgeleide vorme wat in die korpusse figureer het, hoewel dit nie deel van Stotsky se oorspronklike raamwerk gevorm het nie. Dit is egter ná die uitbreiding van Stotsky se raamwerk in die metingsraamwerk van hierdie studie opgeneem (vergelyk afdeling 3.1.1 en 3.1.3).

(i) Afgeleide vorme geskep deur voor- of agtervoegsels

Agt van die 200 graad 9-deelnemers het voor- en agtervoegsels by ’n woord gebruik om woordpare te skep wat aan verskillende woordklasse behoort. Dubbeld soveel graad 6-deelnemers het hierdie tipe afgeleide vorme gebruik. Vergelyk die volgende voorbeelde uit die korpusse van hierdie studie:

Voorbeeld 32: D32 (Koerantberig): “Ma, ek wil ’n selfoon hê,” was die woorde van Karel Smit voor die trauma. Karel se foon was sy deur tot die wêreld daarbuite. Karel het nie geweet wat agter daardie deur gebeur nie. Karel het gedink hy het ’n nuwe vriend gemaak, maar al die tyd was dit sy ontvoerderselfstandige naamwoord. Op 21 Januarie 2014 het sy nuwe Facebook-vriend hom by sy huis kom ontvoerwerkwoord. (graad 6)

Voorbeeld 33: D365 (Argumentatiewe opstel): Toon respekselfstandige naamwoord aan ander. Sê asseblief en dankie. Respekteerwerkwoord mense wat ouer as jy is en respekteerherhaling van afgeleide vorme ook jou ouers en die besluite wat hul vir jou maak, want hulle wil net die beste vir jou hê. (graad 9)

(ii) Afgeleide vorme geskep met behulp van dieselfde agtervoegsels

Slegs vier van die 200 graad 6-deelnemers en twee van die 200 graad 9-deelnemers het woorde met dieselfde agtervoegsels gebruik. Voorbeelde hiervan is:

Voorbeeld 34: D232 (Paragraaf): Die Hulk is man met baie krag. Hy was seer gemaak met A, maar hy sal dood gegaan maar sy pa het hom krag gegee om te lewe. Wanneer hy kwaad raak verander hy. Hy lyk ander kleur sy vel is harder en dan is hy vinnerger [sic] en sterker en het swart hare [sic]. (graad 6)

Voorbeeld 35: D87 (Verhalende opstel): Uiteindelik arriveer ons, dit lyk baie beter as wat ek gedink het dit sal wees. Mooi groen gras en bome, pragtige berge en die koudste, varste [sic] lug om in te asem. (graad 9)

Deur middel van die gebruik van dieselfde agtervoegsels wou die deelnemers moontlik ’n bepaalde effek skep. In voorbeeld 34 druk die skrywer verwondering ten opsigte van die Hulk deur middel van die gebruik van die vergrotende trap van hard, vinnig en sterk uit. In voorbeeld 35 dui die gebruik van die oortreffende trap van vars en koud aan dat hierdie plek die skrywer se verwagtinge oortref het.

(iii) Vormlik identiese woordpare

Slegs twee van die 200 graad 6-deelnemers en agt van die 200 graad 9-deelnemers het woorde gebruik wat vormlik identies is, maar wat tot verskillende woordklasse behoort. Voorbeelde hiervan is:

Voorbeeld 36: D200 (Vriendskaplike brief): Daai selfde aand het my boetie in sy droomselfstandige naamwoord geskree, ek het wakker geskrik en na hom toe gestorm. Toe ek daar aankom was dit net hy wat droomwerkwoord. (graad 6)

Voorbeeld 37: D100 (Dialoog): Na die eerste helfte was dit 10-15. Oelof het toe gesê dat die span wat in die volgende vyf minute ’n drie drukwerkwoord gaan wen hulle het toe ’n drie gedruk in vyf minute daarna druk ons weer een. [...] Ons het toe baie beter verdedig en ons het weer die bal gekry en baie drukselfstandige naamwoord op hulle geplaas [sic]. (graad 9)

Afgeleide vorme speel ’n belangrike rol, omdat dit die skrywer in staat stel om die basiese betekenis te behou (byvoorbeeld die gebruik van modern en moderniteit), maar terselfdertyd stilistiese afwisseling te verseker (Stotsky 1983:434).

5.6 Afwisselende leksikale naamwoordstukke

Afwisselende naamwoordstukke speel ’n kohesieskeppende rol in Afrikaans (Ponelis 1979:580–2; De Stadler 1989:409–11). Enkele voorbeelde van afwisselende naamwoordstukke wat deur die graad 6- en graad 9-deelnemers gebruik is om verwysing na dieselfde saak as die antesedent voort te sit, is soos volg:

Voorbeeld 38: D10 (Biografie): Die duitse renjaer Sebastian Vettel is in 3 Julie 1987 in Heppenheim gebore hy was derd van vier kinders. [...] Sebastian se resies ryer pa het hom laat go-kart ry as klein kind [sic]. (graad 6)

Voorbeeld 39: D183 (Storie): Een aand het Bennie nog lekker geslaap, toe skrik hy wakker. Bennie hoor baie geluide. Hy voel bang en wonder wat dit kan wees. Nou kan hy nie slaap nie. Die klein, vet bruin beertjie hardloop na sy sussie se kamer oor die gang. (graad 6)

Voorbeeld 40: D67 (Resensie): Resident evil. Die oorlewings riller het so vêr baie slegte uitvoer gekry vandat hy in 2012 uitgekom het. (graad 9)

Voorbeeld 41: D486 (Resensie): Kat en muis is weer in ’n stryd vir lewe en dood, sal die muis se vriend (die hond) hom die keer help? Of, sal die kat uiteindelik die lastige bruin muis vang? (graad 9)

Soos blyk uit bogenoemde voorbeelde, het die leerders wat afwisselende naamwoordstukke in hul skryfstukke gebruik het, se skryfstukke steeds verwysing na dieselfde saak voortgesit, maar op ’n gevarieerde wyse ter wille van stilistiese afwisseling.

Afwisselende naamwoordstukke kom onderskeidelik 3.957 en 2.436 keer per 1 000 woorde in die graad 6- en graad 9-korpus voor (vergelyk tabel 2), en dit is deur 62 van die 200 graad 6-deelnemers en 42 van die 200 graad 9-deelnemers gebruik – meer kere en deur meer deelnemers as wat sinonieme en afgeleide vorme gebruik is.

Afwisselende naamwoordstukke is meer kere in die graad 6-korpus as in die graad 9-korpus gebruik. Die graad 6-deelnemers het afwisselende naamwoordstukke waarskynlik meer gebruik omdat hulle biografieë geskryf het waarin hulle telkens op verskillende maniere na ’n bepaalde persoon waaroor die biografie handel, verwys het. Biografieë kon nie by die graad 9-deelnemers bekom word nie (vergelyk afdeling 4.4, waar die tipes skryfstukke waaruit die graad 6- en graad 9-korpus bestaan genoem word).

Uit die bogenoemde bespreking is dit duidelik dat herhaling die taalvorm is wat die meeste gebruik is om leksikale kohesie te realiseer, terwyl sinonieme en afgeleide vorme selde gebruik is.

 

6. Samevattende gevolgtrekking

Hierdie artikel lewer ’n bydrae in dié sin dat ondersoek vir die eerste keer ingestel is na die wyses waarop die leksikale items waaruit tekste bestaan deur geselekteerde graad 6- en graad 9-leerders geskakel word. ’n Verdere bydrae is die saamstel van ’n korpus van Afrikaanssprekende graad 6- en graad 9-leerders se skryfwerk, omdat die korpusse wat uit Afrikaanse data bestaan, saamgestel is uit die skryfwerk van studente op tersiêre vlak (Van Rooy en Esterhuizen 2011; Jordaan 2014; Meintjes 2015).

Soos blyk uit die ontleding van die graad 6- en graad 9-korpus het ál die taalvorme vir die realisering van leksikale kohesie wat in die metingsraamwerk ingesluit is (vergelyk afdeling 3.1.3) in beide die leerderkorpusse figureer. Die voorbeeldsinne in afdeling 5, wat die kohesiewe effek van verskillende taalvorme ter realisering van leksikale kohesie illustreer, behoort deur Afrikaansonderwysers in die klaskamer gebruik te kan word wanneer leiding aan leerders gegee word oor die gebruik van verbindingswoorde – ’n doelwit binne die KABV (vergelyk afdeling 2, uittreksel 1).

Die rede waarom taalvorme vir die realisering van leksikale kohesie (en taalvorme wat ander tipes kohesiemerkers realiseer) binne tekste gebruik moet word, is dat die betekenisverbande wat deur die gebruik daarvan geskep word, tot semantiese kontinuïteit bydra (Halliday en Hasan 1976:299); met ander woorde die idees in een deel van die teks word konsekwent verder aan voortgesit. Die gevolg is dat die leser van die teks dit as koherent (oftewel samehangend) ervaar. Hoe meer nuwe inligting aan bekende inligting geskakel word, hoe minder intellektuele energie word van die leser vereis om die teks te begryp. Daarby kan die gebruik van die taalvorme leksikale kohesie op stilisties gevarieerde wyses realiseer en kan dit dienooreenkomstig vir die onderrig van skryfvaardighede in die Afrikaansklaskamer gebruik word.

 

Bibliografie

Adeyemi, R.I. 2017. Corpus-based analysis of cohesion in written English essays of Nigerian tertiary learners. PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit (Vaaldriehoekkampus).

Booij, G. 2005. The grammar of word. Oxford: Oxford University Press.

Bosch, B. 1979. ’n Sintaktiese ondersoek na die gebruik van die neweskikkende voegwoord in Afrikaans. MA-verhandeling, Rhodes Universiteit, Grahamstad.

—. 1984. ’n Sintaktiese ondersoek na die gebruik van onderskikkende voegwoorde en sinsverbindende woorde in Afrikaans. PhD-proefskrif, Grahamstad, Rhodes Universiteit.

—. 1997. Die voegwoord of. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde, 15(2):35–44.

—. 1998. Die onderskikker dat: ’n Korpus-gebaseerde bespreking, deel 1. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde, 16(4):120–26.

—. 1999a. Die onderskikker dat: ’n Korpusgebaseerde bespreking, deel 2. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde, 17(1):2–5.

—. 1999b. Konjunksiemerkers in Afrikaanse tekste van niemoedertaal-studente: ’n Eerste verkenning. Southern African Journal of Applied Linguistic Studies, 7(1):125–44.

Bosman, N. en M. Pienaar. 2017. Afrikaanse semantiek. In Carstens en Bosman (reds.) 2017.

Botha, J.P. 1987. Afrikaanse sintaksis vir voorgraadse studente. Isando: Lexicon Uitgewers.

Brown, E.K. en A. Anderson (reds.). 2006. Encyclopedia of language and linguistics. London: Elsevier.

Butler, H.G. 2006. A framework for course design in academic writing for tertiary education. DPhil-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Carstens, W.A.M. 1976. Aspekte van taalkundige verwysing: ’n Verkenning. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

—. 1986. Moontlike benaderings tot ’n studie van die Afrikaanse bepaalde voornaamwoord. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 26(2):107–24.

—. 1987. De Beaugrande en Dressler (1981) se “Standaarde van tekstualiteit”. South African Journal of Linguistics, 5(2):17–32.

—. 1996. Konjunksieverhoudings in Afrikaans: ’n verkenning. South African Journal of Linguistics, 14(33):61–77.

—. 1997. Afrikaanse tekslinguistiek: ’n inleiding. Pretoria: Van Schaik.

—. 1998. Sintaksis en die tekslinguistiek. In Gouws en Feinauer (reds.) 1998.

—. 2000. Tekslinguistiek en teksversorging. South African Journal of Linguistics, 18(Suppl. 37):4–17.

—. 2018. Norme vir Afrikaans: Moderne Standaardafrikaans. 6de uitgawe. Pretoria: Van Schaik.

Carstens, W.A.M. en N. Bosman (reds.). 2017. Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Pretoria: Van Schaik.

Carstens, W.A.M. en K. van de Poel. 2012. Teksredaksie. Stellenbosch: SUN Media.

Carstens, W.A.M. en P.L. van Schalkwyk. 1994. Die standaarde van tekstualiteit en Breyten Breytenbach se “Die boenk”. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde, 12(22):43–61.

Combrink, J.G.H. 1995. Hoe om paragrawe te skryf. Kaapstad: Tafelberg.

Cook, G. 1989. Discourse. Oxford: Oxford University Press.

Cornelius, E. 2012. ’n Linguistiese ondersoek na die verstaanbaarheid van verbruikersdokumente vir die algemene Afrikaanssprekende publiek. PhD-proefskrif, Universiteit van Johannesburg.

Creswell, J.W. 2014. Educational research: Planning, conducting, and evaluating quantitative and qualitative research. 4de uitgawe. Upper Saddle River, NJ: Pearson.

Departement van Basiese Onderwys (DBO). 2011a. Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring. Afrikaans Huistaal: Graad 4–6. Finale hersiening. Pretoria: Staatsdrukker.

—. 2011b. Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring. Afrikaans Huistaal: Graad 7–9. Finale hersiening. Pretoria: Staatsdrukker.

—. 2011c. Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring. Afrikaans Huistaal: Graad 10–12. Finale hersiening. Pretoria: Staatsdrukker.

De Beaugrande, R.A. en W.U. Dressler. 1981. Introduction to text linguistics. Londen: Longman.

De Stadler, L.G. 1989. Afrikaanse semantiek. Johannesburg: Oxford University Press.

Du Plessis, A. 1997. Die teorie en praktyk van taalversorging in Afrikaans: ’n loodsondersoek. MA-verhandeling, Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.

Du Plessis, W. en B. Bosch. 1999. ’n Sinchroniese beskouing van diskoerslinguistiek. South African Journal of Linguistics, 17(1):16–36.

Du Toit, P. en W. Smith-Müller. 2003. Stylboek: Riglyne vir paslik skryf. Pretoria: Van Schaik.

Esterhuizen, I. 2002. Betekeniskonstruksie as kreatiewe proses: ’n Tekslinguistiese benadering. Literator, 23(2):51–65.

Esterhuizen, I. en D.M. Wybenga. 2000. Betekeniskonstruksie en teks: ’n Empiriese ondersoek. South African Journal of Linguistics, 18(Suppl. 37):33–51.

Gouws, R en I. Feinauer (reds.) Sintaksis op die voorgrond. Pretoria: Van Schaik.

Gray, D.V. 2014. Doing research in the real world. 3de uitgawe. Londen: Sage.

Halliday, M.A.K. 2002. Linguistic studies of text and discourse. New York, Londen: Continuum.

Halliday, M.A.K. en R. Hasan. 1976. Cohesion in English. New York: Longman.

Hatch, E. 1992. Discourse and language education. Cambridge: Cambridge University Press.

Hoey, M. 2001. Textual interaction: An introduction to written discourse analysis. Londen: Routledge.

Hubbard, E.H. 1989. Reference cohesion, conjunctive cohesion and relational coherence in student academic writing. DLitt et Phil-proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria.

Joubert, I., C. Hartell en K. Lombard (reds.) Navorsing: ’n Gids vir die beginnernavorser. Pretoria: Van Schaik.

Jordaan, A. 2014. Die gebruik van metadiskoers in Afrikaans T1-skryfwerk van eerstejaar-universiteitstudente. MA-verhandeling, Noordwes-Universiteit (Vanderbijlparkkampus).

—. 2016. Afrikaanse verbandsmerkers: Uitbreiding en herkategorisering van voorbeeldwoorde. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 34(2):147–67.

Kargozari, H.R., H. Ghaemi en M.A. Heravi. 2012. Cohesive devices in argumentative, descriptive, and expository writing produced by Iranian EFL university students. Modern Journal of Language Teaching Methods, 2(3):25–47.

Kotzé, A. 1997. Die teksversorger as spookskrywer: Christelike uitgewersmaatskappye as ’n gevallestudie. MA-verhandeling, Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.

Kruger, A. 2000. Leksikale kohesie, Hoey en Shakespeare in Afrikaans. South African Journal of Linguistics, 18(Suppl. 37):63–89.

Lombard, K. 2016. ’n Inleiding tot navorsing. In Joubert, Hartell en Lombard (reds.) 2016.

Lourens, A. en L. Bedeker. 2004. Wetenskaplike skryfvaardighede. Stellenbosch: SUN Media.

Merriam, S.B. 2009. Qualitative research: A guide to design and implementation. 3de uitgawe. San Francisco, CA: John Wiley and Sons.

Meintjes, Z. 2015. Koherensie in die argumentatiewe skryfwerk van eerstejaarstudente: ’n eksgebaseerde ondersoek. PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus).

Naicker, G.G. 1996. Konjunktiewe kohesie in die opstelle van Afrikaans tweedetaal- matrikulante. MA-verhandeling, Universiteit van Natal, Durban.

Pienaar, M. 2009. Die leesbaarheid van akademiese tekste: ’n Tekslinguistiese ondersoek. MA-verhandeling, Noordwes-Universiteit (Vanderbijlparkkampus).

—. 2014. Skrywer-leser-verhoudings: Die rol van metadiskoers in tersiêre studiegidse. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 32(3):317–30.

Ponelis, F.A. 1979. Afrikaanse sintaksis. Pretoria: Van Schaik.

Prinsloo, S. 1994. Kohesiewerking in die spontane mondelinge vertelling in Afrikaans. South African Journal of Linguistics, 12(Suppl. 22):149–65.

—. 1999. ’n Tekslinguistiese analise van die gebruik van en. Literator, 20(2):91–105.

—. 2002. Tekslinguistiek: Van teorie tot praktyk. Literator, 23(2):105–27.

Quirk, R., S. Greenbaum, G. Leech en J. Svartvik. 1985. A comprehensive grammar of the English language. Harlow: Pearson.

Salkie, R. 1995. Text and discourse analysis. Londen: Routledge.

Sanders, T.J.M. en H.P. Maat. 2006. Cohesion and coherence: Linguistic approaches. In Brown en Anderson (reds.) 2006.

Steenberg, A.M.M. 1986. Die funksie van leksikale herhaling in die kortprosabundel EEN-EN-TWINTIG van J.S. Rabie. MA-verhandeling, Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (Vanderbijlparkkampus).

Stotsky, S. 1983. Types of lexical cohesion in expository writing: Implications for developing the vocabulary of academic discourse. College Composition and Communication, 34(4):430–46.

—. 1986. On learning to write about ideas. College Composition and Communication, 37(3):276–93.

Taljaard, N.W. 1992. Kohesie in Markus 5:1–20. MA-verhandeling, Randse Afrikaanse Universiteit, Johannesburg.

Van den Berg, G. 2002. Die taalkundige analise van ’n literêre teks: Leksikale kohesie in “My broer se kraai”. Literator, 23(2):165–81.

Van der Merwe, T. 1996. Nou, toe en dan as temporele leksikale elemente in Afrikaans. Literator, 17(2):91–104.

Van Rooy, B. en I. Esterhuizen. 2011. Die gebruik van konjunksiemerkers by nagraadse studente en gepubliseerde navorsing oor Afrikaanse taal- en letterkunde. Tydskrif vir Taalonderrig, 45(1):67–86.

Van Schoor, J.L. 1983. Die grammatika van standaard-Afrikaans. Kaapstad: Lex Patria.

Van Tonder, S.L. 1999. Lexical cohesion in student academic writing. MA-verhandeling, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria.

Weideman, A.J. 2011. A framework for the study of linguistics. Pretoria: Van Schaik.

Wybenga, D.M. 1988. Diskoersanalise en stilistiek: ’n Inleiding. Pretoria: Serva.

—. 1989. Taalkompas: Elke student se gids. Pretoria: Serva.

 

Eindnotas

1 Carstens (1986:109), Carstens (1987:22), Carstens (1997:126), Carstens (1998:40) en Carstens en Van de Poel (2012:107) gee meer besonderhede oor verwysing, asook Afrikaansspesifieke voorbeelde. 

2 Vergelyk ook Carstens (1987:22), Carstens (1997:126), Carstens (1998:40) en Carstens en Van de Poel (2012:109) in hierdie verband.

3 Carstens (1987:22), Carstens (1997:126), Carstens (1998:40) en Carstens en Van de Poel 2012:110) gee ’n bespreking van ellips.

4 Carstens (1987:22), Carstens (1997:126), Carstens (1998:40) en Sanders en Maat (2006:591) kan ook in hierdie verband geraadpleeg word.

5 Die term linguistiese eenheid om na ’n teks te verwys, kom uit Carstens en Van de Poel (2012:103).

6 Bosch (1979, 1984, 1997, 1998, 1999a, 1999b), Carstens (1976, 1986, 1987, 1996, 1997, 1998, 2000, 2018), Carstens en Van de Poel (2012), Carstens en Van Schalkwyk (1994), Combrink (1995), Cornelius (2012), De Stadler (1989), Du Plessis (1997), Du Plessis en Bosch (1999), Du Toit en Smith-Müller (2003), Esterhuizen (2002), Esterhuizen en Wybenga (2000), Jordaan (2014, 2016), Kotzé (1997), Kruger (2000), Lourens en Bedeker (2004), Meintjes (2015), Naicker (1996), Pienaar (2009, 2014), Ponelis (1979), Prinsloo (1994, 1999, 2002), Steenberg (1986), Taljaard (1992), Van den Berg (2002), Van der Merwe (1996), Van Rooy en Esterhuizen (2011), Van Schoor (1983) en Wybenga (1988, 1989).

7 Die term leerderskryfwerk verwys na die skryfstukke wat binne die intermediêre, senior en VOO-fase geproduseer word wanneer die taalvaardigheid Skryf en Aanbied onderrig word. Gedurende die produksie van skryfstukke word leerders in staat gestel om hulle gedagtes en idees op ’n koherente en kreatiewe of funksionele wyse uit te druk deur bepaalde stappe te volg, naamlik beplanning, die skryf van ’n konsep, die hersiening van die konsep, redigering en proeflees, en laastens die aanbied daarvan.

8 Die bevindings wat in hierdie artikel gegee word, kom gedeeltelik uit ’n MEd-verhandeling.

9 Vergelyk Stotsky (1983) waarin kritiek op en die verfyning van Halliday en Hasan (1976) se raamwerk van leksikale kohesie in fyner besonderhede bespreek word.

10 Ook Carstens (1997:123) en Ponelis (1979:576) verwys na sinsinterne en sinseksterne kohesiemerkergebruik, hoewel hulle onderskeidelik die terme “sinsinterne en sinseksterne verhoudinge” en “sinsinterne en sinseksterne anaforiese kettings” gebruik.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Die realisering van leksikale kohesie: ’n Korpuslinguistiese ondersoek van Afrikaanssprekende graad 6- en graad 9-leerders se skryfwerk appeared first on LitNet.

Vonnisbespreking: Artikels 2(3) en 2A van die Wet op Testamente 7 van 1953 deel weer die kollig

$
0
0

Vonnisbespreking: Artikels 2(3) en 2A van die Wet op Testamente 7 van 1953 deel weer die kollig

Kameel v Master of the High Court Bloemfontein (A230/2018) [2019] ZAFSHC 129 (1 Augustus 2019) 

Anél Gildenhuys, Fakulteit Regte, Noordwes-Universiteit

LitNet Akademies Jaargang 17(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Abstract

Sections 2(3) and 2A of the Wills Act 7 of 1953 again share the spotlight

The joint consideration of sections 2(3) and 2A of the Wills Act has been the subject of various High Court decisions. Section 2(3) (also known as the rescue provision) enables the High Court to direct the Master of the High Court to accept a document or amended document as a will for purposes of the Administration of Estates Act 66 of 1965, even though this document does not comply with the formalities for the execution or amendment of wills (as prescribed in section 2(1) of the Wills Act). Section 2A enables the High Court to declare a will (or part thereof) as revoked. Recently the full bench of the High Court, Bloemfontein ruled in Kameel that the court a quo erred in granting a section 2(3) order, since the single judge was privy to a later document that included a revocation clause, which document was also previously refused by the Master for non-compliance with the formalities as required in section 2(1)(a)(v) of the Wills Act. According to the full bench, the aforementioned judge failed to take into account the testator’s revocation intention as referred to in section 2A of the Wills Act in order to determine the testator’s intention for the purposes of the section 2(3) application. Such “failure”, however, occurred in the absence of a section 2A application/prayer by the appellant. In other words, the full bench was of the opinion that the court of first instance had to apply the provisions of section 2A mero motu to the section 2(3) application. This contribution examines the accuracy of this decision by inter alia discussing the relevant provisions of both sections 2(3) and 2A in order to find that: (a) section 2A cannot mero motu be applied to the section 2(3) application, since section 2A requires that the court must be convinced of the revocation intention of the testator – in other words, relevant and sufficient evidence must be provided by the party relying on the provisions of section 2A. The court cannot be convinced of its own accord; and (b) the High Court in Van Wetten v Bosch 2004 1 SA 348 (SCA) par. 21 held that the relevant time of intent for purposes of the section 2(3) application refers to the intention of the testator at the time of executing/drafting the relevant document. Evidence regarding a subsequent change in the testator’s intention (for example as evidenced from the latter document) is accordingly relevant only in so far as it sheds light on “what was on the mind of the deceased at the time of making the contested will” (Van Wetten par. 21).

Keywords: formalities for the execution of a will; law of succession; power of condonation; revocation of wills; section 2(1)(a) of the Wills Act 7 of 1953; section 2(3) of the Wills Act; section 2A of the Wills Act

Trefwoorde: artikel 2(1)(a) van die Wet op Testamente 7 van 1953; artikel 2(3) van die Wet op Testamente; artikel 2A van die Wet op Testamente; erfreg; herroeping van testamente; kondoneringsbevoegdheid; vormvereistes vir die verlyding van ’n testament

 

1. Inleiding

Buiten die verwysing na ’n erflater se bedoeling in artikel 2B van die Wet op Testamente 7 van 1953 (hierna die Wet op Testamente), wat verwys na die uitwerking van ’n egskeiding of nietigverklaring van ’n huwelik op ’n testament, word daar in slegs twee ander bepalings van dié wet uitdruklik1 na die bedoeling van die erflater verwys, naamlik:

  • artikel 2(3) met verwysing na die sogenaamde kondoneringsbevoegdheid van die Hoë Hof om die Meester van die Hoë Hof (hierna die Meester) te gelas om ’n dokument of gewysigde dokument vir doeleindes van die Boedelwet 66 van 1965 (hierna die Boedelwet) as ’n testament te aanvaar, ofskoon dié dokument nie aan die vormvereistes vir die verlyding of wysiging van testamente (soos in artikel 2(1) voorgeskryf) voldoen nie; en 
  • artikel 2A met verwysing na die bevoegdheid van die Hoë Hof om ’n testament (of ’n gedeelte daarvan) as herroepe te verklaar.

Beide artikels is by wyse van die Wet tot Wysiging van die Erfreg 43 van 1992 in die Wet op Testamente opgeneem, en die onderskeie bedoelings van die erflater, naamlik: (a) dat die tersaaklike dokument as die erflater se testament (of wysiging daarvan) moet dien (art. 2(3)); en (b) om sy/haar testament (of ’n gedeelte daarvan) te herroep (art. 2A), speel ’n deurslaggewende rol in die toepassing van beide artikels. 

Alhoewel die aard en die omvang van artikels 2(3) en 2A wesenlik van mekaar verskil (sien o.a. Webster v The Master 1996 1 SA 34 (D) 41C–D (hierna Webster)), is die twee artikels al verskeie kere gesamentlik deur die Hoë Hof oorweeg. Artikel 2(3) se bewoording is byvoorbeeld deur die Hoogste Hof van Appèl in Bekker v Naude 2003 5 SA 173 (HHA) (hierna Bekker) met dié van artikel 2A vergelyk ten einde tot die gevolgtrekking te kom dat, anders as in die geval van artikel 2A, ’n persoonlike handeling deur die erflater in artikel 2(3) vereis word (Bekker par. 14; sien ook Webster 41A–D; en Olivier v Die Meester: In re Boedel Wyle Olivier 1997 1 SA 836 (T) 844B–E (hierna Olivier)). In De Reszke v Maras 2003 6 SA 767 (K) (hierna De Reszke I)2 en Letsekga v The Master 1995 4 SA 731 (W) (hierna Letsekga) is ’n artikel 2A-bevel in die alternatief tot ’n artikel 2(3)-bevel in beide sake aangevra (alhoewel die aansoeke in beide sake van die hand gewys is). In Webster is ’n artikel 2A-aansoek ten opsigte van die gedeeltelike herroeping van ’n gesamentlike testament van die oorledene en sy vrou gebring, tesame met ’n artikel 2(3)-aansoek ten opsigte van die kondonering van ’n latere ongetekende dokument (slegs eersgenoemde is toegestaan). In Logue v The Master 1995 1 SA 199 (N) (hierna Logue) is eers ’n artikel 2A-aansoek aangehoor (en toegestaan) ten opsigte van die herroeping van ’n vroeëre testament van die oorledene deur ’n latere dokument, welke dokument nie aan die vormvereistes soos uiteengesit in artikel 2(1)(a) voldoen het nie, maar wel ’n herroepingsklousule bevat het. Daarna is die artikel 2(3)-aansoek oorweeg om hierdie latere dokument te kondoneer as die laaste testament van die oorledene, welke aansoek ook toegestaan is. Sien in hierdie verband ook Horn v Horn 1995 1 SA 48 (W) 50C–D (hierna Horn).3 In Olivier is die Hoë Hof versoek om die Meester ingevolge artikel 2(3) te gelas om ’n kodisil tot ’n testament vir doeleindes van die Boedelwet te aanvaar, waarna klousule 8 van die oorspronklike testament ingevolge artikel 2A as herroep verklaar moet word (Olivier 841H–I). Regter Smit dui egter aan dat die genoemde kodisil nie net ten doel gehad het om die genoemde klousule te herroep nie, maar ook om dié klousule te wysig (Olivier 842A–B). In dié konteks sou die gedeeltelike herroeping van die oorspronklike testament eerder neerkom op ’n wysiging daarvan, met die gevolg dat verskillende vereistes gestel word in onderskeidelik artikel 2A vir die herroeping of gedeeltelike herroeping van ’n testament teenoor dié in artikel 2(3) rakende die kondonering van (onder andere) wysigings aan ’n testament (Olivier 845A–B). Regter Smit is gevolglik die mening toegedaan dat die bepalings van artikels 2(3) en 2A “met mekaar versoen [kan] word [net] as die herroeping beoog ingevolge art 2A nie ’n wysiging as sodanig is nie. Uit die aard van die saak sal ’n herroeping van ’n gedeelte van ’n testament ’n wysiging tot gevolg hê maar as die bedoeling van die erflater is om sy testament te wysig vind die bepalings van art 2A nie aanwending nie. Daar moet dan voldoen word aan die bepalings van art 2(3) en moet die oorledene self die dokument opstel of verly” (845B–D). 

In Mdlulu v Delarey [1998] 1 All SA 434 (W) (hierna Mdlulu) het die eiser onder andere beweer dat ’n testament (gedateer 27 Junie 1988), wat as die laaste testament van haar oorlede moeder voorkom, ongeldig is weens nienakoming van die vormvereistes in artikel 2(1)(a)(ii)-(iii) van die Wet op Testamente. Na aanhoor van getuienis in hierdie verband kom regter Satchwell (441B–F) tot die gevolgtrekking dat dié dokument inderdaad nie aan die genoemde vormvereistes voldoen nie en gevolglik nie as ’n geldige testament vir doeleindes van die Boedelwet aanvaar kon word nie. Regter Satchwell (442D–444J) dui egter aan dat die verweerder wél die hof op ’n oorwig van waarskynlikheid tot die oortuiging gebring het dat die kondoneringsvereistes in artikel 2(3) nagekom is en dat die oorledene inderdaad die bedoeling gehad het dat dié dokument as haar laaste testament moet dien. Die eiser het egter in haar pleitstukke aangevoer dat sou die hof bevind dat die tersaaklike dokument tog aan die vormvereistes van artikel 2(1)(a) voldoen, of dat die hof dié dokument ooreenkomstig artikel 2(3) kondoneer, die oorledene dié testament uitdruklik gedurende Mei 1994 herroep het en dat die bepalings van artikel 2A toegepas moet word (445A–B). By ’n gebrek aan voorlegging van die beweerde “herroepende” dokument om die vereistes van artikel 2A te bevredig (spesifiek die herroepingsbedoeling van die oorledene), kom regter Satchwell (445A–456A) noodgedwonge tot die gevolgtrekking dat die oorledene nie die testament van 27 Junie 1988 herroep het nie, aangesien mondelinge herroeping nie ingevolge die gemenereg óf ingevolge artikel 2A toelaatbaar is nie.

Die gesamentlike oorweging van artikels 2(3) en 2A het onlangs weer ter sprake gekom in die volbankuitspraak in die saak onder bespreking (Kameel). Kameel verskil egter van vorige uitsprake in hierdie verband deurdat die alternatiewe/chronologiese oorweging van artikel 2(3)- en artikel 2A-aansoeke/bedes, soos ingestel/gepleit deur dieselfde gedingsparty (soos in De Reszke I; Letsekga; Webster; Logue; Horn; en Olivier), of die opponerende gedingsparty (soos in Mdlulu), nie ter sprake was nie. Kameel handel eerder oor die rol wat die herroepingsbedoeling in artikel 2A in die bepaling van die erflater se bedoeling vir doeleindes van ’n artikel 2(3)-aansoek moet speel. In Kameel bevind die volbank (by monde van waarnemende regter Morobane) dat die hof a quo in die toestaan van ’n artikel 2(3)-bevel gefouteer het omrede die enkelregter kennis van ’n latere dokument (met insluiting van ’n herroepingsklousule) gedra het, en welke dokument ook vroeër deur die Meester weens nienakoming van die vormvereistes geweier is. Volgens die volbank het die enkelregter versuim om die herroepingsbedoeling, soos na verwys in artikel 2A, in ag te neem ten einde die bedoeling van die erflater vir doeleindes van die artikel 2(3)-aansoek, te bepaal. Sodanige “versuim” het egter in die afwesigheid van ’n artikel 2A-aansoek/bede plaasgevind – met ander woorde, die volbank is van mening dat die hof a quo uit eie beweging (mero motu) die bepalings van artikel 2A op die artikel 2(3)-aansoek moes toepas.

Die oogmerk met hierdie bydrae is gevolglik om die juistheid van die uitspraak in Kameel te ondersoek, siende dat die volgende presedent geskep word: dat die Hoë Hof in soortgelyke omstandighede (sien par. 2 hier onder vir ’n uiteensetting van die feite) verplig is om die bepalings van artikel 2A in aanmerking te neem ten einde die bedoeling van die erflater vir doeleindes van ’n artikel 2(3)-aansoek te bepaal.

Ten einde ’n mening oor die aangeleentheid te kan lewer, word die tersaaklike feite asook die hof a quo se beslissing kortliks in paragraaf 2 uiteengesit, gevolg deur ’n bondige uiteensetting van die tersaaklike vormvereistes in paragraaf 3. Enkele aspekte rakende artikels 2(3) en 2A, insluitend die betrokke bedoelingsvereistes van die erflater, geniet in onderskeidelik paragrawe 4 en 5 aandag. Die volbank se hantering van die erflater se bedoeling in hierdie verband, asook my kommentaar op die volbank se beslissing, word in paragraaf 6 uiteengesit.

 

2. Tersaaklike feite

2.1 Die beweerde testament

Selloane Susana Monyana (hierna die oorledene en/of die erflater) het op 13 Mei 2015 ’n dokument by ’n prokureurspraktyk onderteken, welke dokument die oorledene se laaste testament (hierna die beweerde testament) skyn te wees. Die beweerde testament het alle vorige testamente soos deur die oorledene gemaak, herroep en die geheel van die oorledene se boedel aan haar dogter (die appellant) bemaak. Sodanige bemaking was onderhewig aan die voorwaarde dat die oorledene se woonhuis geleë te Boitumelostraat 30, Malebogo, Hertzogville sou voortgaan om as familiewoning te dien (Kameel par. 3).4

Op sigwaarde het die beweerde testament aan al die vormvereistes vir die verlyding van ’n geldige testament ingevolge artikel 2(1)(a)(v) van die Wet op Testamente voldoen: Dit is deur die oorledene by wyse van die maak van ’n merk (haar duimafdruk) (Kameel par. 1) in die teenwoordigheid van twee bevoegde getuies (Kameel par. 12) onderteken en wat die testament ooreenkomstig die voorskrifte van artikel 2(1)(a)(iii) geattesteer het. ’n Kommissaris van ede (’n prokureur) was ten tye van die verlyding teenwoordig en laasgenoemde het gesertifiseer dat die duimafdruk dié van die oorledene is (Kameel par. 12).

Na die oorledene se dood op 16 Maart 2016 (Kameel par. 1) het die appellant die beweerde testament by die Meester van die Hoë Hof (Bloemfontein) ooreenkomstig die bepalings van die Boedelwet ingedien. Die Meester het egter dié dokument geweier weens nienakoming van die vereistes wat in artikel 2(1)(a)(v) van die Wet op Testamente gestel word (Kameel par. 3), in soverre die betrokke kommissaris van ede nie gesertifiseer het dat sy haar van die identiteit van die erflater vergewis het nie (Kameel par. 4).

Die appellant het nooit ’n kondoneringsaansoek kragtens artikel 2(3) by die Hoë Hof ten aansien van die beweerde testament gebring nie (Kameel par. 21).

2.2 Die twee beëdigde verklarings en die artikel 2(3)-aansoek in die hof a quo

In ’n latere stadium het die oorledene se kleinseun (die tweede respondent) twee beëdigde verklarings (hierna die verklarings) by die Meester vir doeleindes van die Boedelwet ingedien (Kameel par. 5). Hierdie verklarings is op onderskeidelik 23 Januarie en 24 Januarie 2015 (dit wil sê vier maande voor die verlyding van die beweerde testament) deur die oorledene gemaak, en deur laasgenoemde in die teenwoordigheid van sekere familielede by wyse van ’n duimafdruk onderteken. ’n Polisiebeampte het by elk van die verklarings as kommissaris van ede opgetree (Kameel par. 1). In die verklarings word die bovermelde onroerende eiendom aan die tweede respondent “oorhandig” (“handed over”) (Kameel par. 5). Die Meester het egter ook dié verklarings op dieselfde gronde as die beweerde testament geweier, naamlik dat die betrokke kommissaris van ede nie aangedui het dat hy hom van die identiteit van die testateur vergewis het nie (Kameel parr. 5 en 15). (Sien egter die volbank se verwysing na die hof a quo se verkeerde opvatting dat die verklarings weens hul vorm en bewoording deur die Meester geweier is (Kameel par. 15).) 

Anders as die appellant, het die tweede respondent wel ’n aansoek uit hoofde van artikel 2(3) by die hof a quo, naamlik die Vrystaat Hoë Hof, Bloemfontein, gebring ten einde die verklarings as die laaste testament van die oorledene te laat kondoneer (Kameel parr. 1 en 5). Sodanige aansoek is deur die enkelregter toegestaan en die Meester is gelas om die verklarings as die laaste testament van die oorledene te aanvaar (Kameel par. 17).

2.3 Aansoek om en gronde vir appèl 

Alhoewel die appellant nooit self ’n artikel 2(3)-aansoek gebring het nadat die Meester die beweerde testament geweier het nie (Kameel par. 21), het sy wel teen die uitspraak van die hof a quo geappelleer op die volgende gronde, naamlik dat die regter gefouteer het in haar bevinding dat: (a) die tweede respondent aan die kondoneringsvereistes gestel in artikel 2(3) voldoen het; (b) die oorledene die bedoeling gehad het om ’n finale testament te laat toe sy die verklarings gemaak het; en (c) die oorledene geen bedoeling gehad het om haar boedel aan die appellant te bemaak nie, ondanks die verlyding van die beweerde testament van 13 Mei 2015 (Kameel par. 7).

Die aansoek om appèl word toegestaan en in appèl word die bedoeling van die oorledene vir doeleindes van sowel artikel 2(3) as artikel 2A oorweeg. 

Voordat die bedoelingsvereistes van artikels 2(3) en 2A in onderskeidelik paragrawe 4 en 5 toegelig word, asook die hantering daarvan deur die volbank in paragraaf 6, word die tersaaklike vormvereistes (soos in artikel 2(1)(a)(v) vervat) volledigheidshalwe kortliks hier onder in paragraaf 3 uiteengesit.

 

3. Vormvereistes met spesifieke verwysing na artikel 2(1)(a)(v)

Artikel 8(4) van die Boedelwet verleen aan die Meester die bevoegdheid om ’n dokument wat “’n testament is of heet te wees”, te weier indien dit vir die Meester blyk dat dié dokument “om die een of ander rede” ongeldig is. Wat redes vir ongeldigheid betref, kan ’n onderskeid tussen formele ongeldigheid en materiële ongeldigheid gemaak word. Terwyl laasgenoemde verwys na inhoudelike ongeldigheid, verwys “formele ongeldigheid” na nienakoming van die voorgeskrewe formaliteite. Nienakoming van die vormvereistes wat in artikel 2(1)(a) en (b) van die Wet op Testamente vir onderskeidelik die verlyding en wysiging van testamente voorgeskryf word, sal sodanige testament of wysiging formeel ongeldig laat. (Die vormvereistes soos voorgeskryf in art. 2(1)(a) en (b) is van toepassing op testamente wat op of na 1 Januarie 1954 verly en/of gewysig is.) 

Ingevolge artikel 1 van die Wet op Testamente kwalifiseer die maak van ’n merk (wat ’n erflater betref) as onderteken vir doeleindes van die voormelde wet. Artikel 2(1)(a)(v) maak gevolglik voorsiening vir gevalle waar ’n erflater sy/haar testament deur onder andere die maak van ’n merk (soos in die geval van Kameel, ’n duimafdruk) onderteken. 

Alhoewel die Meester se rede vir die weiering van sowel die beweerde testament as die verklarings as onbenullig voorkom, word twee moontlikhede van bedrog in die geval waar ’n erflater ’n testament by wyse van die maak van ’n merk onderteken, deur hoofregter Rumpff in Radley v Stopforth 1977 2 SA 516 (A) 527A–B (hierna Radley) soos volg verwoord: 

Wanneer ’n erflater toegelaat word om ’n testament met ’n merk te onderteken, kan daar ten minste twee vorms van bedrog wees. In die eerste plek kan ’n persoon wat nie kan lees of skryf nie, voorgee dat hy ’n testament met ’n merk onderteken, hoewel hy nie werklik die erflater volgens die testament is nie. Aangesien die getuies nie bewus hoef te wees nie van die inhoud van die stuk wat met ’n merk onderteken word, is dit moontlik dat hulle van so ’n vorm van bedrog onbewus kan wees. In die tweede plek kan ’n persoon wat nie kan lees of skryf nie sy merk maak op ’n dokument en onbewus daarvan wees dat dit voorgee [om] sy testament te wees. Ook hier is dit moontlik dat die getuies onbewus van moontlike bedrog kan wees.

Volgens hoofregter Rumpff het die vormvereistes van artikel 2(1)(a)(v) gevolglik ten doel om hierdie vorme van bedrog te voorkom (Radley 527B–C). Gevolglik (en bykomend tot die vormvereistes wat in artikel 2(1)(a)(i)–(iv) vir die verlyding van ’n testament voorgeskryf word) vereis artikel 2(1)(a)(v) ook nakoming van die volgende, naamlik dat ’n kommissaris van ede móét sertifiseer dat (i) hy/sy homself/haarself rakende die identiteit van die erflater oortuig het; en (ii) dat die aldus ondertekende testament wel dié van die erflater is.5

Die kommissaris van ede se sertifisering rakende die identiteit van die erflater behels dat die kommissaris van ede oortuig moet wees “dat die persoon wat die merk gemaak het, werklik die persoon is wat volgens die testament die erflater is” (Radley 527C). Wat die sertifisering rakende die vraag of die ondertekende testament wel dié van die erflater is, betref, dui hoofregter Rumpff (Radley 527C–D) aan dat “die testament, wat met ’n merk onderteken is, bedoel is om die testament te wees van die person [sic] wat die merk op die testament gemaak het”.6

Die rede vir die Meester se weiering van sowel die beweerde testament as die verklarings in Kameel kan derhalwe (en met verwysing na Radley 527C) verwoord word as dat dit nie duidelik uit die sertifikaat blyk dat die betrokke kommissarisse van ede hulle vergewis het van die identiteit van die erflater, naamlik Selloane Susana Monyana, nie. Insgelyks het die Oos-Kaapse Afdeling van die Hoë Hof, Grahamstad in Mlanda v Mhlaba 2016 4 SA 311 (ECG) parr. 14–5 (hierna Mlanda) onlangs tot die gevolgtrekking gekom dat die bewoording “[t]he testator signed in my presence and of two witnesses” nie aan die vereistes van artikel 2(1)(a)(v) voldoen nie, ondanks die feit dat die woord “testator” gebruik is en ondanks die feit dat die sertifiserende beampte ’n senior en ervare prokureur was. Die hof is dit eens dat die presiese bewoording van artikel 2(1)(a)(v) en/of die voorbeeld van ’n sertifikaat in Bylae 1 (wat volgens artikel 2(4) gevolg “kan” word) nie vereis word nie. Daar kan egter geen twyfel uit die bewoording van die sertifikaat bestaan nie dat die kommissaris van ede hom- of haarself van die identiteit van die testateur oortuig het (Mlanda par. 15; sien in hierdie verband ook Oldfield v The Master 1971 3 SA 445 (N) en O’Connor v The Master 1999 4 SA 614 (NK) 619B–C).

 

4. Artikel 2(3) met spesifieke verwysing na die erflater se bedoeling

Weens die feit dat die rigiede toepassing van die vormvereistes (insluitend artikel 2(1)(a)(v))7 dikwels tot onbillike uitkomste aanleiding gegee het, is artikel 2(3) by wyse van artikel 3 van die Wet tot Wysiging van die Erfreg 43 van 1992 in die Wet op Testamente opgeneem ten einde (soos vroeër aangedui) ’n kondoneringsbevoegdheid aan die Hoë Hof te verleen. Artikel 2(3) bepaal: 

Indien ’n hof oortuig is dat ’n dokument of die wysiging van ’n dokument wat opgestel of verly is deur ’n persoon wat sedert die opstel of verlyding daarvan oorlede is, bedoel was om sy testament of ’n wysiging van sy testament te wees, gelas die hof die Meester om daardie dokument, of die dokument soos gewysig, vir die doeleindes van die Boedelwet, 1965 (Wet 66 van 1965), as testament te aanvaar ofskoon dit nie aan al die vormvereistes vir die verlyding of wysiging van testamente bedoel in subartikel (1) voldoen nie.

Die vereistes van artikel 2(3) word puntsgewys in Ex parte Maurice 1995 2 SA 713 (K) 715G (hierna Maurice) soos volg gegroepeer, naamlik dat daar ’n dokument is: (a) wat opgestel of verly is deur ’n persoon; (b) wat sedertdien oorlede is; en (c) wat bedoel het dat die dokument sy/haar testament moet wees. In Van Wetten v Bosch 2004 1 SA 348 (HHA) par. 14 (hierna Van Wetten) groepeer appèlregter Lewis egter weer die inhoud van artikel 2(3) in twee oorhoofse vereistes, naamlik dat: (a) die dokument opgestel of verly moet gewees het deur ’n persoon wat sedertdien oorlede is; en (b) dat die dokument deur die oorledene bedoel moet gewees het om sy/haar testament te wees (sien ook Mdlulu 442D–444J en Kameel par. 10 vir moontlike verdere groeperings van die artikel 2(3)-vereistes).

Ondanks die variasies in die voorgestelde groepering van die vereistes staan dit vas dat die hof in toto van al die vereistes van artikel 2(3) oortuig moet wees alvorens die Meester gelas moet word om die dokument vir doeleindes van die Boedelwet te aanvaar. Terwyl die gebiedende aard van artikel 2(3) nie in die Afrikaanse teks opval nie, dui adjunkregterpresident Flemming in Horn 49H–50E egter aan, met verwysing na die insluiting van “shall” in die ondertekende Engelse teks,8 dat die hof nié ’n diskresie in hierdie verband het nie. Met ander woorde, indien die persoon/persone wat ’n artikel 2(3)-aansoek bring, die Hoë Hof op ’n oorwig van waarskynlikheid oortuig dat die bogenoemde vereistes nagekom is, móét die Hof die Meester gelas om die dokument vir doeleindes van die Boedelwet te aanvaar (sien in hierdie verband ook Van Wetten par. 14; Harlow v Becker 1998 4 SA 639 (D) 642I–643E (hierna Harlow); Van der Merwe v Master of the High Court 2010 6 SA 544 (HHA) par. 14 (hierna Van der Merwe); en Kameel parr. 9, 11). Soos hier bo vermeld, moet die Hoë Hof van al die bovermelde vereistes oortuig wees (vir ’n algemene bespreking van art. 2(3) sien Schoeman-Malan 2017:77–99; De Clercq e.a. 2017:56–60; Wood-Bodley 2017:78–86; Faber e.a. 2014:78–103; Van der Linde 2012:412–425; Erasmus e.a. 2011, par. 265; Jamneck 2009:113–125; Jamneck 2008a:90–104; Jamneck 2008b:603–612; Paleker 2004:27–33; Du Toit 1997:101–4 en Du Toit 1996:472–8).

Slegs die bedoelingsvereiste word egter vir doeleindes van hierdie bydrae kortliks toegelig. Opsommenderwys verwoord Wood-Bodley (2017:83) die bedoelingsvereiste van artikel 2(3) dat die Hoë Hof oortuig moet wees dat die tersaaklike dokument: (a) ten tye van die opstel of verlyding daarvan; (b) die finale uitdrukking van die oorledene se wense was; (c) welke dokument (wat na die inhoud daarvan eerder as die vorm wat dit aanneem, verwys) nie aan enige moontlike wysigings onderworpe was nie (sien ook Schoeman-Malan 2017:95).

In Maurice (716E–G, 717B–G) kom regter Selikowitz tot die gevolgtrekking dat blote instruksies deur die erflater aan sy/haar prokureur, bank of adviseur nie voldoende is om die nodige finaliteit aan die erflater se wense te verleen nie (sien ook Letsekga 735 F–G, 736G–H; Anderson and Wagner v The Master 1996 3 SA 779 (K) 784H–785A; vgl. egter met Mabika v Mabika [2011] ZAGPJHC 109 par. 15). Regter Selikowitz (717F) beslis dat die konseptestament wat na aanleiding van die erflater se instruksies saamgestel is, ook nie kan dien as die finale uitdrukking van die erflater se wense nie, aangesien dié konseptestament nog deur die erflater oorweeg moes word en die moontlikheid bestaan dat die erflater wysigings sou wou/kon aanbring. Die instruksies van die erflater in Van Wetten verskil egter van dié in Maurice juis omdat daar nie ’n moontlikheid van wysiging ten opsigte van eersgenoemde bestaan het nie. In Van Wetten het die erflater ’n brief met instruksies vir die opstel van ’n testament aan sy prokureur gerig, welke brief in die bewaring van ’n vriend van die erflater geplaas is met die opdrag om dié brief aan die erflater se prokureur te oorhandig eers wanneer daar iets met die erflater gebeur het – geïmpliseerd die erflater se dood (Van Wetten parr. 7–8). Volgens appèlregter Lewis (Van Wetten par. 19) sou instruksies vir die opstel van ’n testament post mortem nutteloos wees en word die instruksiebrief wel as die finale wense van die erflater bevestig (sien Wood-Bodley 2017:84; sien ook Smith v Parsons 2010 4 SA 378 (HHA) par. 20 asook Van der Merwe parr. 17–8 rakende selfdoodnotas).

Die tersaaklike tyd van bedoeling is vir hierdie bydrae van besondere belang. In Van Wetten par. 21 is dit beslis dat “tersaaklike tyd van bedoeling” verwys na die erflater se bedoeling ten tye van die opstel/verlyding van die betrokke dokument waaroor die artikel 2(3)-verrigtinge handel. Hierdie benadering word ook in De Reszke v Maras 2006 2 SA 277 (HHA) par. 11 (hierna De Reszke III) gevolg, naamlik dat die bedoeling dat die tersaaklike dokument die erflater se testament moet wees “must have existed concurrently with the execution or drafting of the document” (sien ook De Reszke v Maras 2006 1 SA 401 (K) par. 13 (hierna De Reszke II); en Harlow 643E–G). Met verwysing na Van Wetten par. 21 dui Wood-Bodley (2017:84) aan dat ’n verandering van bedoeling deur die erflater ná opstel of verlyding van die betrokke dokument gevolglik irrelevant is, tensy sodanige verandering manifesteer in ’n daaropvolgende testamentêre geskrif of in ’n erkende wyse van herroeping van ’n (geldige) testament of gedeelte daarvan. Hierdie aspek sal verder in paragraaf 6.2.2 hier onder toegelig word (sien Schoeman-Malan 2017:94–5; Jamneck 2009:113–25; Jamneck 2008b:603–12; en Wood-Bodley 2005:52–8 vir ’n verdere bespreking van die bedoelingsvereiste van artikel 2(3)).

 

5. Artikel 2A van die Wet op Testamente

Artikel 2A van die Wet op Testamente bepaal dat indien die Hoë Hof oortuig is dat ’n erflater:

(a) ’n geskrewe aanduiding op sy testament aangebring het of voor sy dood sodanige aanduiding laat aanbring het; (b) ’n ander handeling met betrekking tot sy testament verrig het of voor sy dood sodanige handeling laat verrig het wat uit die voorkoms van die testament waarneembaar is; of (c) ’n ander dokument opgestel of voor sy dood sodanige dokument laat opstel het, waardeur hy bedoel het om sy testament of ’n gedeelte van sy testament te herroep, verklaar die hof die testament of die betrokke gedeelte, na gelang van die geval, herroepe te wees.

Artikel 2A verleen gevolglik aan die Hoë Hof die bevoegdheid om ’n gebrekkige poging tot herroeping deur ’n testateur te voltooi. Soos in artikel 2(3) se geval, is artikel 2A gebiedend, met ander woorde die Hoë Hof moet ’n testament (of ’n gedeelte daarvan) as herroep beskou indien die hof op ’n oorwig van waarskynlikheid oortuig is dat dit die testateur se bedoeling was om sy/haar testament (of ’n gedeelte daarvan) te herroep en een van die handelinge in (a)-(c) hier bo gelys teenwoordig is (sien Erasmus e.a. 2011, par. 304). In Ex parte De Swardt 1998 2 SA 204 (K) (hierna De Swardt) is ’n artikel 2(3)-aansoek gebring ten aansien van ’n dokument waarvan die applikante beweer dat dit die laaste testament van die oorledene was, welke dokument deur die Meester geweier is weens nienakoming van die vormvereistes in artikel 2(1)(a)(iv) gestel. Soos in Kameel het die tersaaklike dokument ook ’n herroepingsklousule bevat (De Swardt 205H–I). Met verwysing na die herroepingsklousule in die dokument wat die Meester geweier het, maak regter Foxcroft die volgende opmerking: “[T]he document signed by the testatrix should, at least, have been accepte d by the Master as a revocation of previous wills in terms of s 2A of the Wills Act 7 of 1953” (De Swardt 205H–I). Alhoewel laasgenoemde opmerking slegs obiter gemaak is, wil dit voorkom of regter Foxcroft die mening toegedaan is dat die Meester die bevoegdheid het om die bepalings van artikel 2A te kan toepas. Hierdie obiter dictum is duidelik nie versoenbaar met artikel 2A se bewoording dat die Hoë Hof van die gestelde vereistes oortuig moet word nie. Die Meester beskik nie oor ’n beregtigingsbevoegdheid nie, maar vervul eerder ’n administratiewe funksie (sien Paleker 2017:230).

Verskeie artikel 2A-aansoeke het al voor die Hoë Hof gedien waarin die erflater se herroepingsbedoeling (animus revocandi) in elke geval deurslaggewend was, juis omrede die “herroepende” dokument nie ingevolge artikel 2A(c) self aan die vormvereistes soos gestel in artikel 2(1) hoef te voldoen nie (sien in die algemeen Roos v Saaiman 2018 6 SA 279 (GP); Letsekga 737 B–F; Horn 50C–E; Olivier 844B–E; Henwick v The Master 1997 2 SA 326 (K) 335H–J; Reszke I parr. 26, 28 (sien eindnota 2)).

 

6. Volbankbeslissing en kommentaar daarop

6.1 Beslissing 

Die volbank kom tot die gevolgtrekking dat die hof a quo wel gefouteer het in die toestaan van die artikel 2(3)-aansoek deur slegs die bedoeling van die erflater tydens die verlyding van die verklarings te oorweeg, en nie ook haar bedoeling toe sy die beweerde testament verly het nie. Die beweerde testament het ’n herroepingsklousule bevat wat vier maande na die verklarings verly is en waarvan die hof a quo kennis gedra het (sien Kameel parr. 13–14, 17). Die volbank is derhalwe die mening toegedaan dat die erflater se bedoeling om te herroep ooreenkomstig die bepalings van artikel 2A (spesifiek artikel 2A(c) – sien Kameel parr. 17–20) deur die hof a quo oorweeg moes word (Kameel par. 21): “[T]he court a quo misdirected itself when it condoned non-compliant affidavits to be the will of the deceased in the light of the revocation clause in the subsequent document.”

Die bedoeling van die oorledene ten tye van die ondertekening van die beweerde testament (met sy herroepingsklousule) was vir die volbank deurslaggewend aangesien hierdie dokument (al is dit voorheen deur die Meester geweier) in die lig van artikel 2A die Hoë Hof noodsaak om vorige testamente as herroepe te verklaar (Kameel par. 20). Die appèl is gevolglik gehandhaaf te dien effekte dat die hof a quo se opdrag aan die Meester om die twee beëdigde verklarings te aanvaar, van die hand gewys word (Kameel par. 22).

6.2 Kommentaar

6.2.1 Prosedurele aspekte rakende artikel 2A

In paragraaf 1 van hierdie bydrae word uitgelig dat die aard, omvang (insluitend die vereiste bedoelings) en bewoording van artikels 2(3) en 2A verskil, soos onder andere blyk uit Webster 41 C–D; Bekker par. 14; en Olivier 844 B–E. Tog is daar ook inhoudelike ooreenkomste tussen dié twee artikels, naamlik:

  1. Nóg artikel 2(3) nóg artikel 2A verwys uitdruklik na ’n aansoek wat by die Hoë Hof gebring moet word vir onderskeidelik die kondonering of herroeping van ’n testament; maar
  2. beide artikels verwys na die feit dat die Hoë Hof “oortuig” moet word rakende onder andere die erflater se bedoeling om sy/haar testament (i) te verly/wysig vir doeleindes van artikel 2(3); en (ii) te herroep (of gedeeltelik te herroep) vir doeleindes van artikel 2A. 

Gevolglik behels artikel 2A (net soos artikel 2(3)) ’n aansoek wat voor die Hoë Hof gebring word. Erasmus e.a. 2011, par. 304 verklaar in verband met artikel 2A dat “application has to be made for a court order declaring the will or part thereof to be revoked”. In Kotze v Die Meester 1998 3 SA 523 (NK) 529A–B (hierna Kotze) word bovermelde “oortuig” vir doeleindes van artikel 2(3) deur regter-president Kriek soos volg verwoord:

Voordat die artikel aangewend kan word om ’n gebrekkige “testament” die status van ’n geldige testament te gee, moet daar bewyse van die testateur se bedoeling aangevoer word wat van so ’n aard is dat die Hof met ’n groot mate van sekerheid tevrede gestel word dat dit inderdaad sy bedoeling was. (Eie kursivering.)

“Groot mate van sekerheid” verwys uiteraard na die siviele bewysmaatstaf van “op ’n oorwig van waarskynlikheid”. In die lig van bovermelde omskrywing van “oortuig”, sou artikel 2A beteken dat die persoon wat die aansoek bring / aanspraak maak, bewyse moet aanvoer ten einde die hof op ’n oorwig van waarskynlikheid daarvan te oortuig dat die erflater die bedoeling gehad het om sy/haar testament (of gedeelte daarvan) te herroep. Die hof kan met ander woorde nie in die afwesigheid van bewyslewering en uit eie beweging (mero motu) homself as oortuig te wees ag nie.

In Kameel was nóg die verrigtinge in die hof a quo nóg dié in appèl ’n artikel 2A-aansoek/bede deur die appellant. Soos in paragraaf 2.3 hier bo aangedui, het die appellant op die volgende gronde teen die uitspraak van die hof a quo geappelleer, naamlik dat die regter gefouteer het in haar bevinding dat: (a) die tweede respondent aan die kondoneringsvereistes gestel in artikel 2(3) voldoen het; (b) die oorledene die bedoeling gehad het om ’n finale testament agter te laat toe sy die verklarings gemaak het; en (c) die oorledene geen bedoeling gehad het om haar boedel aan die appellant te bemaak nie, ondanks die verlyding van die beweerde testament gedateer 13 Mei 2015 (Kameel par. 7). 

Die eerste twee gronde verwys na die artikel 2(3)-aansoek rakende die kondonering van die verklarings. Die derde grond kom nie neer op ’n aanspraak op ’n artikel 2A-bevel nie, aangesien dit nie noodwendig die erflater se herroepings­bedoeling in geskil plaas nie, maar eerder dui op die inhoudsbedoeling, welke bedoeling nie by ’n artikel 2(3)- of 2A-aansoek ter sake is nie (sien in hierde verband Jamneck 2009:116). In Mdlulu het die Hoë Hof, in soortgelyke omstandighede as Kameel, wel artikel 2A oorweeg. Die twee uitsprake verskil egter in een belangrike opsig, naamlik dat die eiser in Mdlulu spesifiek in haar pleitstukke aangevoer het dat sou die Hoë Hof bevind dat die tersaaklike dokument wel aan die vormvereistes van artikel 2(1)(a) voldoen, of dat die Hof dié dokument ooreenkomstig artikel 2(3) kondoneer, die oorledene dié testament uitdruklik gedurende Mei 1994 herroep het en dat die bepalings van artikel 2A toegepas moet word (Mdlulu 445A–B). Die bewyse rakende die erflater se herroepingsbedoeling spesifiek vir doeleindes van artikel 2A het in die hofverrigtinge aandag geniet (alhoewel ’n artikel 2A-bevel nie toegestaan is nie). In teenstelling hiermee het die volbank (soos hier bo aangedui) in Kameel mero motu die bepalings van artikel 2A toegepas en het die nodige bewyse ten einde die bepalings van artikel 2A te bevredig, nie noodwendig tydens die verrigtinge gedien nie. 

6.2.2 Die artikel 2(3)-bevel rakende die verklarings

In Kameel word daar bevestig dat die bewyslas rus op die gedingsparty wat die artikel 2(3)-bevel aanvra ten einde die hof rakende die bedoeling van die erflater te oortuig (Kameel par. 9). Voorts dui die volbank aan dat die hof die tersaaklike dokument asook die omringende omstandighede tydens die artikel 2(3)-verrigtinge moet ondersoek (ibid.). Daar moet gevolglik op hierdie punt in gedagte gehou word dat die verklarings die onderwerp van die artikel 2(3)-aansoek in die hof a quo was en dan ook in die daaropvolgende appèl teen sodanige bevel, nie die beweerde testament van 13 Mei 2015 nie. Streng gesproke is dit die verklarings (en omringende omstandighede tot die verklarings) wat ondersoek moes word. Dit is gevolglik vreemd dat waarnemende regter Morobane aandui dat die beweerde testament binne die konteks van die omringende omstandighede ondersoek moet word: “The purported will should be examined in the light of the surrounding circumstances” (eie kursivering) (Kameel par. 12).

Die Hoogste Hof van Appèl het dit duidelik in Van Wetten par. 21 gestel dat die tydstip waarop die erflater se bedoeling vir doeleindes van die artikel 2(3)-aansoek vasgestel moet word, ten tye van die opstel/verlyding van die tersaaklike dokument is. Die tersaaklike bedoeling van die erflater in Kameel, in sowel die verrigtinge in die hof a quo as in appèl, moes gevolglik vasgestel gewees het op die tydstip toe die erflater die verklarings opgestel het, aangesien laasgenoemde die onderwerp van die verrigtinge daarstel.

Met verwysing na Van Wetten par. 21 mag bewyse gelewer word rakende die optrede van die oorledene ten einde haar bedoeling ten tye van die opstel van die verklarings te bepaal. In Van Wetten par. 20 het die oorledene se gade aangevoer dat die verhouding tussen haar en die oorledene aansienlik verbeter het sedert die oorledene die betwiste dokument opgestel het. Appèlregter Lewis par. 21 dui egter aan dat bewyse rakende die daaropvolgende optrede van die oorledene relevant is slegs in soverre dit lig werp op “what was on the mind of the deceased at the time of making the contested will”. Wood-Bodley (2005:55) dui aan dat ’n noodwendige implikasie van die Van Wetten-beslissing is dat die oorledene se volgehoue bedoeling soos ten tye van die opstel/verlyding van die tersaaklike dokument nie vereis word tot sy/haar dood nie (sien egter Wood-Bodley 2005:56–7 se opinie oor die juistheid van hierdie posisie). Wood-Bodley (2005:55), in navolging van Van Wetten par. 21, kom tot die gevolgtrekking dat tydens artikel 2(3)-verrigtinge bewyse gelewer kan word rakende die daaropvolgende optrede van die erflater ten einde die erflater se bedoeling ten tye van die opstel/verlyding van die tersaaklike dokument te bepaal, maar bewyse rakende ’n verandering in bedoeling is irrelevant en ontoelaatbaar. Met verwysing na Van Wetten par. 21 dat blote getuienis (“mere evidence”) oor ’n verandering van die erflater se bedoeling sedert die opstel/verlyding van die formeel ongeldige testament irrelevant en ontoelaatbaar is, kom Wood-Bodley tot die gevolgtrekking dat sodanige verandering van bedoeling aanvaar sal word slegs indien dit manifesteer in: (a) ’n daaropvolgende testamentêre geskrif (Wood-Bodley 2017:84); of (b) ’n herroepingsbedoeling in ’n regtens erkende wyse vir die herroeping (of gedeeltelike herroeping) van ’n geldige testament (Wood-Bodley 2005:55).9

Toegepas op Kameel moes enige daaropvolgende verandering in bedoeling, soos blyk uit die beweerde testament, streng gesproke irrelevant tot die artikel 2(3)-verrigtinge rakende die verklarings gewees het.

 

7. Gevolgtrekking

Volgens die volbank moes die hof a quo nie ’n artikel 2(3)-bevel toegestaan het nie, en het die hof a quo gefouteer deur nie aandag te skenk aan die oorledene se bedoeling om alle vorige testamente uit hoofde van die beweerde testament te herroep nie – al het die beweerde testament nie self as ’n geldige testament gekwalifiseer nie (Kameel parr. 16–17). Gebaseer op hierdie herroepingsbedoeling van die oorledene, en dienooreenkomstig artikel 2A, dui die volbank aan dat die Hoë Hof oor die bevoegdheid beskik om ’n herroepingspoging deur die oorledene te voltooi (Kameel parr. 18–19).

’n Noodwendige implikasie van die Kameel-uitspraak is die skep van ’n presedent dat die Hoë Hof in soortgelyke omstandighede die bedoelingsvereiste in artikel 2A mero motu moet toepas ten einde die bedoelingsvereiste vir ’n artikel 2(3)-aansoek te bepaal. Anders verwoord kom die Kameel-uitspraak daarop neer dat ’n formeel ongeldige latere dokument met ’n herroepingsklousule, in die afwesigheid van ’n artikel 2A-aansoek/bede deur die Hoë Hof, uit eie beweging gebruik kan word om die erflater se bedoeling soos blyk uit ’n artikel 2(3)-aansoek rakende die kondonering van ’n vroeëre dokument, te weerspreek. Die korrektheid van die beslissing word egter op grond van die volgende aspekte bevraagteken: 

  1. Dat artikel 2A ’n aansoek is wat deur ’n gedingsparty gebring word, en welke gedingsparty die hof op ’n oorwig van waarskynlikheid moet oortuig onder andere oor die herroepingsbedoeling van die erflater. Die appellant se gronde vir appèl kwalifiseer nie as ’n bede ingevolge artikel 2A nie, anders as wat in Mdlulu die geval was. By ’n gebrek aan ’n artikel 2A-aansoek (en die gepaardgaande bewyslewering in hierdie verband) mag die hof nie uit eie beweging die bepalings van artikel 2A in ag neem nie. 
  2. Weens die aard van die verrigtinge (naamlik ’n artikel 2(3)-bevel ten opsigte van die verklarings) was die erflater se bedoeling ten tye van die verlyding van die verklarings relevant. By ’n gebrek aan ’n artikel 2A-aansoek/bede rakende die beweerde testament moes ’n verandering in die erflater se bedoeling soos blyk uit die beweerde testament gevolglik irrelevant gewees het. 

Daar moet in gedagte gehou word dat slegs die herroepingsbedoeling van die erflater ten opsigte van die beweerde testament erken word, maar dat die restant van hierdie testament (insluitend die bemaking van die geheel van die erflater se boedel aan die appellant) steeds van nul en gener waarde is, aangesien die testament steeds nie as ’n formeel geldige testament deur die Meester aanvaar kan word nie. Die volbank dui in hierdie verband dan ook aan dat dit die appellant vrystaan om self ’n artikel 2(3)-aansoek vir die kondonering van die beweerde testament te bring (Kameel par. 21).10

 

Bibliografie 

Banda, T.J.A. 2012. The court’s power to condone a document in terms of section 2(3) and section 2A of the Wills Act 7 of 1953: A comparative analysis and recommendations. Ongepubliseerde LLM-verhandeling. Universiteit van Pretoria.

De Clercq, B. e.a. 2017. Deceased estates. 11de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Du Toit, F. 1996. Artikel 2(3) van die Wet op Testamente 7 van 1953 en substansiële nakoming van formaliteite: Vier uitsprake in perspektief. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 59(3):472–8. 

—. 1997. Enkele gedagtes rondom artikel 2(3) van die Wet op Testamente van 1953, Inlywing deur verwysing en die herlewing van herroepe testamente. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 60(1):101–4.

Erasmus, H.J. e.a. 2011. Volume 32: Wills and succession, administration of deceased estates and trusts. In Joubert (red.) 2011.

Faber, J. e.a. 2014. Section 2(3) of the Wills Act 7 of 1953: a retrospective and critical appraisal of some unresolved issues. Acta Juridica, 2014(1):78–103.

Jamneck, J. 2008a. Artikel 2(3) van die Wet op Testamente: ’n Praktiese probleem by litigasie. Potchefstroomse Elektroniese Regsblad, 11(3):90–104.

─. 2008b. Testeerbevoegdheid, animus testandi, testeervryheid, bedoeling en die “bedoeling” ingevolge artikel 2(3) van die Wet op Testamente (1). Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 71(4):603–12.

─. 2009. Testeerbevoegdheid, animus testandi, testeervryheid, bedoeling en die “bedoeling” ingevolge artikel 2(3) van die Wet op Testamente (2). Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 72(1):113–25. 

Jamneck, J. en C. Rautenbach (reds.). 2017. The Law of Succession in South Africa. 3de uitgawe. Kaapstad: Oxford University Press.

Joubert, W.A. (red.). 2011. The Law of South Africa. Volume 31. 2de uitgawe. Kaapstad: LexisNexis. 

Paleker, M. 2004. Bekker v Naude: The Supreme Court of Appeal settles the meaning of “drafted" in section 2(3) of the Wills Act, but creates a potential constitutional problem. South African Law Journal, 121(1):27–33.

—. 2017. Interpretation of wills. In Jamneck en Rautenbach (reds.) 2017.

Schoeman-Malan, L. 2017. Condonation confusion. Journal for Juridical Science, 42(1):77–99.

Van der Linde, A. 2012. Longfellow v BOE Trust Ltd NO (13591/2008) [2010] ZAWCHC 117; Mabika v Mabika [2011] ZAGPJHC 109; Taylor v Taylor [2011] ZAECPEHC 48 – Requirements in terms of section 2(3) of the Wills Act 7 of 1953: Some comments on judgments in recent case law. De Jure, 45:412–425.

Wood-Bodley, M.C. 2005. Tertius Bosch’s final over: Van Wetten v Bosch. South African Law Journal, 122(1):52–8.

—. 2017. Formalities for a will. In Jamneck en Rautenbach (reds.) 2017.

 

Eindnotas 

1 Uitgesluit indirekte verwysings na die testateur se bedoeling (nl. verwysings na “tensy uit die samehang van die testament anders blyk”) soos dié in artt. 2C(2) en 2D(1).

2 In appèl na die volbank (De Reszke v Maras 2006 1 SA 401 (K)) en daaropvolgend na die HHA (De Reszke v Maras 2006 2 SA 277 (HHA)) is slegs die art. 2(3)-aangeleenthede aangespreek.

3 Die wisselwerking tussen artt. 2(3) en 2A word opsommenderwys deur Banda (2012:59–60) as volg aangedui: “If a section 2A application succeeds the new document revokes the first will. But a section 2(3) application is still necessary in order to have the new document declared the last will of the deceased. If a section 2(3) application succeeds a section 2A application in the alternative is rendered unnecessary by that token [sic]. It is advisable however to bring a section 2(3) and a section 2(A) [sic] application because, as it appears from Webster, if the section 2(3) application fails, at least there is an application to have the earlier will declared revoked based on any one of the grounds in section 2A.”

4 Daar word uitgelig dat die oorledene die eienaar van die grond geleë te Boitumelostraat 30, Malebogo, Hertzogville was. Tydens die oorledene se leeftyd het haar kleinseun (die tweede respondent) die oorspronklike huis wat op die erf was, afgebreek en ’n groter en moderner huis vir die oorledene op hierdie erf laat bou (Kameel par. 6).

5 Die kommissaris van ede moet elke bladsy van die testament op enige plek onderteken, uitgesonderd die bladsy waarop sy/haar sertifikaat aangebring is. Let daarop dat die moontlikheid wat in art. 2(1)(a)(v)(bb) geskep word om die sertifikaat post mortem testatoris aan te bring, buite die bestek van hierdie bydrae val. Sien in hierdie verband Wood-Bodley (2017:75) vir ’n uiteensetting van die aangeleentheid pre en post die wysigings soos ingevoer deur die Wet tot Wysiging van die Erfreg 43 van 1992. Alhoewel die amp waarin die kommissarisse van ede in die Kameel-saak opgetree het in die sertifisering van onderskeidelik die verklarings en beweerde testament, nie ’n kwessie was nie, word daar volledigheidshalwe genoem dat die Appèlhof in Radley 528H aangedui het dat dit die bedoeling van die wetgewer was dat die sertifiseerder die “besondere amp” waarvolgens hy optree, nl. as kommissaris van ede, in die sertifikaat moet vermeld. Sien in hierdie verband ook Jeffrey v The Master 1990 4 SA 759 (D) en O’Connor v The Master 1999 4 SA 614 (NC) 619C-620H.

6 Vir verdere besprekings van art. 2(1)(a)(v) se tweeledige bedrogvoorkomingsoogmerk (voor en na wysigings), sien Ex parte Suknanan 1959 2 SA 189 (N) 191; Ex parte Sookoo: In re Estate Dularie 1960 4 SA 249 (D) 252; In re Jennett 1976 1 SA 580 (A) par. 583F–H; en Mlanda v Mhlaba 2016 4 SA 311 (ECG) parr. 11, 16.

7 Alhoewel art. 2(1)(a)(v)-aansoeke al verskeie kere voor die Hoë Hof gedien het, is daar sedert die byvoeging van art. 2(3), buiten vir die verrigtinge in die hof a quo in Kameel, slegs een ander gerapporteerde saak waarin ’n art. 2(3)-aansoek deur die Hoë Hof aangehoor is weens nienakoming van die vereistes wat in spesifiek art. 2(1)(a)(v) gestel word. Sien in hierdie verband O’Connor v The Master 1999 4 SA 614 (NC).

8 Art. 2(3) van die Engelse teks lui: “If a court is satisfied that a document or the amendment of a document drafted or executed by a person who has died since the drafting or execution thereof, was intended to be his will or an amendment of his will, the court shall order the Master to accept that document, or that document as amended, for the purposes of the Administration of Estates Act, 1965 (Act 66 of 1965), as a will, although it does not comply with all the formalities for the execution or amendment of wills referred to in subsection (1)” (eie kursivering).

9 Wood-Bodley (2005:55–6) vra op watter wyse ’n formeel ongeldig-verlyde testament (weens nienakoming van die vormvereistes vervat in artikel 2(1)) wat met die vereiste bedoeling gepaardgaan, onklaar gemaak kan word sou die erflater wel ’n daaropvolgende verandering van bedoeling hê. Soos genoem (sien par. 6.2.2), kom Wood-Bodley tot die gevolgtrekking dat sodanige verandering van bedoeling aanvaar sal word slegs indien dit manifesteer in: (a) ’n daaropvolgende testamentêre geskrif (Wood-Bodley 2017:84); of (b) in ’n herroepingsbedoeling in ’n regtens erkende wyse vir die herroeping (of gedeeltelike herroeping) van ’n geldige testament (Wood-Bodley 2005:55). Wat laasgenoemde moontlikheid betref, verwys Wood-Bodley (2005:58) na Mdlulu 446G–447B en die tydstip vir die bepaling van die erflater se bedoeling vir doeleindes van artikel 2(3) soos beslis in Van Wetten par. 21. Hy kom tot die gevolgtrekking dat die bepalings van art. 2A wel in sekere omstandighede gebruik kan word om ’n gebrekkige herroeping van ’n formeel ongeldige dokument te voltooi. Soos ook genoem (sien par. 6.2.1), moet artikel 2A-verrigtinge egter deur die betrokke gedingsparty ingestel gewees het, soos wel die geval in Mdlulu was (anders as in Kameel).

10 Alhoewel dit nie so in die uitspraak vermeld word nie, kan ’n moontlike rede hoekom die appellant verkies het om nooit self ’n art. 2(3)-aansoek vir die kondonering van die beweerde testament te bring nie (buiten vir die kostes daaraan verbonde), wees dat sy behoudens die bepalings van die Wet op Intestate Erfopvolging 81 van 1987 óf as die oorledene se enigste intestate erfgenaam kwalifiseer óf as ’n intestate erfgenaam. Die uitspraak verwys egter nie na ander familielede van die oorledene anders as die appellant en die tweede respondent nie. Dit is ook nie duidelik uit die uitspraak of die tweede respondent die appellant se seun is nie. Die situasie is gevolglik dat nóg die verklarings (weens die tersydestelling van die hof a quo se uitspraak in appèl), nóg die beweerde testament (weens ’n gebrek aan ’n art. 2(3)-aansoek en bevel) deur die Meester as die oorledene se testament vir doeleindes van die Boedelwet aanvaar kan word. Die oorledene se boedel moet gevolglik ooreenkomstig die bepalings van die Wet op Intestate Erfopvolging vererf. Die prosesregtelike kwessie rakende die tydraamwerk waarbinne die appellant nog ’n art. 2(3) aansoek vir kondonasie van die beweerde testament kan bring, val egter buite die bestek van hierdie bydrae.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Vonnisbespreking: Artikels 2(3) en 2A van die Wet op Testamente 7 van 1953 deel weer die kollig appeared first on LitNet.


’n Kritiese blik op 21ste-eeuse onderrig en leer deur ’n onderwyser- en leerderbril

$
0
0

’n Kritiese blik op 21ste-eeuse onderrig en leer deur ’n onderwyser- en leerderbril

Marné Pedro en Michele van der Merwe, Departement Kurrikulumstudie, Universiteit Stellenbosch

LitNet Akademies Jaargang 17(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Tegnologie het die potensiaal om te verander hoe daar onderrig en geleer word. Baie navorsers en onderwyspersoneel ondersoek derhalwe doeltreffender benaderings om aan die eise van die 21ste eeu te voldoen en leerders as betrokke, medeskeppers van kennis in die klaskamer te erken.

In hierdie artikel ondersoek ons onderwyser- en leerderperspektiewe aangaande ’n 21ste-eeuse taalonderrigruimte deur middel van ’n interpretivistiese gevallestudiebenadering. Die perspektiewe is bekom deur middel van semigestruktureerde onderhoude met agt taalopvoeders, ’n fokusgroep met vier onderwyserdeelnemers en ’n vraelys aan 66 leerders wat deur die betrokke onderwysers onderrig word.

Die rasionaal vir die ondersoek is gesetel in ons oortuiging dat die snelle tegnologiese vooruitgang wat so kenmerkend van die 21ste eeu is, dit moontlik maak om vernuwing in die taalklas mee te bring en positief te spreek tot die behoeftes van die hedendaagse leerders wat ons taalklasse bevolk. Om hierdie ideaal te kan verwesenlik moet onderwysers toegerus word om beide moderne opvoedkundige leertegnologieë én tradisionele leerervarings effektief binne die kurrikulum te integreer.

Ons het in hierdie studie gevind dat die uiteindelike sinvolle implementering van vernuwende onderrig- en leerpraktyke grootliks by die onderwyser berus. Gevolglik beveel ons aan dat onderwysers deur middel van ’n onder-na-bo benadering by die integrasie van tegnologie in die taalklas betrek word. Ons steun dus ’n skoolkultuur van bemagtiging waar onderwysers as rolspelers in die beleidsintegrasie van onderrigtegnologieë erken word. Samewerkende verhoudings tussen interne en eksterne beleidshervormers, onderwysleiers, praktisyns, leerders en ouerverteenwoordigers sal meer volhoubare en sinvolle beleide vir tegnologie-integrasie oplewer.

Uit die onderwyser- en leerderperspektiewe kon ons aflei dat ’n betekenisvolle leerderbetrokkenheid binne die taalonderrigruimte een van die grootste dryfvere vir tegnologie-integrasie is. Onderwysers moet leerders by samewerkende leeroefeninge betrek en tegnologie gebruik om nuwe, voorheen ondenkbare take te skep en om samewerkende, konstruktivistiese en outentieke leerervarings te ondersteun.

Die erkenning van onderwysers, leerders en die skoolgemeenskap as kernrolspelers word deur ons beklemtoon as ’n deurslaggewende faktor ten opsigte van sinvolle onderrig- en leerveranderinge vir die 21ste eeu. Ons navorsing berus op die dringendheid om onderwyser- en leerderperspektiewe aangaande die gebruik van tegnologie in die klaskamer in die plaaslike navorsingsdomein te erken.

Trefwoorde: 21ste-eeuse leerder; onderwyser- en leerderperspektiewe; tegnologie-integrasie

 

Abstract

A critical look at 21st-century teaching and learning from a teacher and learner perspective

Technology has the potential to change how we teach and learn. Many researchers and teaching staff are therefore exploring more effective approaches to meet the demands of the 21st century and to recognise learners as involved co-creators of knowledge in the classroom.

In this article, we explore teacher and learner perspectives within a 21st-century language teaching context through an interpretivist case study approach. The perspectives were obtained through semi-structured interviews with eight language educators, a focus group with four teacher participants and a questionnaire presented to 66 learners taught by the language teachers concerned.

The rationale for the inquiry was rooted in our belief that the rapid technological advancement that is so characteristic of the 21st century makes it possible to bring innovation to language education and to respond positively to the needs learners who populate these classes now. The world of the 21st-century learner differs significantly from that of learners of the previous century. As Lemke (2003:5) points out, current learners have a virtual world – with all its promises and pitfalls – at their disposal.

According to Redecker, Leis, Leendertse, Punie, Gijsbers, Kirschner, Stoyanov and Hoogveld (2011:31), future-oriented learning presupposes more active participation by learners with a focus on learning through the application of knowledge; the learning experience; and involvement in and commitment to the learning process. At the same time, the learning process should be more social and collaborative, with each learner constructing his/her knowledge in interaction with others and within the context of practical applications and tasks.

Bolstad, Gilbert, McDowall, Bull, Boyd and Hipkins (2012:31‒2) acknowledge the need for a fresh look at teaching and learning within the context of the 21st-century learning environment. The challenge is in determining what knowledge and skills learners will need for the world of work after completing their schooling. We join the above authors by arguing that South African teachers need to prepare their learners for a world of work in which continuous navigation of rapidly evolving networks and the demands of the 21st century is needed.

We believe that a new type of learner also requires a new approach to the teaching and learning experience. This belief ties in with future-oriented learning, which links with the skills that 21st-century learners need for finding their way in the digital sphere (Taylor and Van der Merwe 2019:300). These arguments relate to Lavonen and Korhonen’s (2017:257) belief that the key challenge for the 21st-century classroom is to find ways to guide learners to develop 21st-century skills. According to Lavonen and Korhonen (2017:257), teachers and school leadership should critically consider the impact of 21st-century competence and include such practices in the practical operational arrangements of the classroom and the school.

In a previous article, “Teacher perspectives on blended learning as a teaching and learning approach to language teaching for the 21st-century learner” that appeared in LitNet Akademies (Pedro and Van der Merwe 2020), we recognised the key role of the teacher concerning innovative teaching and learning practices related to integrating technology in the language class. We extend our findings within this article by drawing attention to 21st-century teaching and learning by investigating teacher and learner perspectives on the integration of technology and the needs of the modern learner.

According to the U.S. Department of Education (2017:7, cited in Taylor and Van der Merwe 2019:5), digital education will “transform the way learners learn, and even what they learn (skills)” and therefore “should encourage schools to become aware of the opportunities such tools offer to improve learning and teaching”. While technology can play a role in the classroom to realise such teaching and learning ideals, research is needed within the local educational domain to determine how these innovative practices are being implemented in schools.

Based on the above arguments, we identify the following problems that are related to the rationale and motivation for this study:

  1. The traditional curricular approaches to language teaching presumably do not address the teaching and learning needs of the 21st-century learner.
  2. The teachers responsible for implementing curricular strategies are not necessarily familiar with the teaching and learning preferences of the 21st-century learner.

The following research questions were developed to explore learner and teacher perspectives on the integration of technology into 21st-century language education, in order to determine whether integrating technology within the national language teaching curriculum can be of benefit to today's learners:

  1. What are language teachers’ perspectives on the teaching and learning needs of the 21st-century learner and how do these views compare with the learners’ perspectives?
  2. What are language teachers’ perspectives on the link between technology integration and the teaching and learning needs of the 21st-century learner?

In the current study, we found that the ultimate meaningful implementation of innovative teaching and learning practices rests largely with the teacher. Consequently, we recommend that teachers be involved in the integration of technology in the language class through a bottom-up approach. We therefore advocate a school culture of empowerment in which teachers are recognised as role players in the policy integration of teaching technologies. Collaborative relationships between internal and external policy reformers, education leaders, practitioners, learners and parent representatives will lead to greater sustainability and meaningful technology integration policies.

From the teacher and learner perspectives, we could conclude that meaningful learner engagement within the language teaching space is one of the biggest drivers for technology integration. Teachers should engage learners in collaborative learning exercises and use technology to create new, previously unimagined tasks and to support collaborative, constructive and authentic learning experiences.

The recognition of teachers, learners and the school community as key players is emphasised as a decisive factor in establishing meaningful teaching and learning change for the 21st century. Our research is based on the urgency of recognising teacher and learner perspectives with regard to the use of technology in the classroom in the local research domain.

Keywords: 21st-century learner; teacher and learner perspectives; technology integration

 

1. Inleiding

Die leefwêreld van die 21ste-eeuse leerder verskil aansienlik van dié van leerders van die vorige eeu. Volgens Lemke (2003:5) het die hedendaagse leerder ’n virtuele wêreld tot hulle beskikking – met al sy beloftes en slaggate. Die beskikbaarheid van hierdie moderne tegnologie, met implikasies wat betref kommunikasie en kennisverkryging, moet egter ook in die landskap van die skoolomgewing erkenning geniet.

Ons is van mening dat ’n nuwe tipe leerder ook ’n nuwe aanslag tot die onderrig- en leerervaring noodsaak. Hierdie oortuiging sluit aan by toekomsgerigte leer, wat nou skakel met die vaardighede wat die 21ste-eeuse leerder benodig om “op ’n verantwoordbare wyse hul weg in die 21ste-eeuse digitale sfeer te vind” (Taylor en Van der Merwe 2019:300). Hierdie argumente sluit by Lavonen en Korhonen (2017:257) aan wat glo dat die sleuteluitdaging vir die 21ste-eeuse klaskamer is om maniere te vind om leerders te begelei om vaardighede te ontwikkel wat vir die 21ste eeu geskik is. Onderwysers en skoolleierskap moet volgens Lavonen en Korhonen (2017:257) die impak van die onderrig van 21ste-eeuse bevoegdhede in die praktiese operasionele reëlings van die klaskamer en die skool krities oorweeg.

In ’n vorige artikel, “Taalonderwysers se perspektiewe aangaande vervlegte leer as onderrig- en leerbenadering vir die 21ste-eeuse leerder” (Pedro en Van der Merwe 2020), het ons die onderwyser as kernrolspeler ten opsigte van vernuwende onderrig- en leerpraktyke erken en daarmee saam het ons breedvoerig beskryf hoe onderwysers die implementering van tegnologie in die taalonderrigruimte ervaar. Ons brei ons bevindinge binne hierdie artikel uit deur die aandag te vestig op 21ste-eeuse onderrig en leer met die blik op onderwyser- en leerderperspektiewe aangaande tegnologie-integrasie en die behoeftes van die hedendaagse leerder wat tans in ons skoolbanke sit.

Volgens Redecker, Leis, Leendertse, Punie, Gijsbers, Kirschner, Stoyanov en Hoogveld (2011:31) veronderstel toekomsgerigte leer ’n meer aktiewe deelname van leerders met die fokus op leer deur die toepassing van kennis, die leerervaring en die betrokkenheid en verbintenis tot die leerproses. Terselfdertyd moet die leerproses meer sosiaal en samewerkend wees, met elke leerder wat sy/haar kennis in wisselwerking met ander en binne die konteks van praktiese toepassings en take konstrueer.

Bolstad, Gilbert, McDowall, Bull, Boyd en Hipkins (2012:31‒2) beaam die noodsaaklikheid van ’n vars blik op onderrig en leer binne die konteks van die 21ste-eeuse leeromgewing. Die uitdaging is om te bepaal watter kennis en vaardighede leerders vir die wêreld van werk na voltooiing van hul skoolloopbaan sal nodig hê. Ons sluit by die bostaande outeurs aan deur te redeneer dat Suid-Afrikaanse onderwysers hul leerders moet voorberei vir die wêreld van werk waar daar voortdurend deur die snelontwikkelende netwerke en eise van die 21ste eeu genavigeer moet word.

Onderwysers kan en moet leerders dus toerus met toepaslike vaardighede om selfstandig inligting te kan bekom, te evalueer en ook te gebruik ten einde nuwe kennis te skep (Jan 2017:53). Olivier (2016:3) beskou die gebruik van tegnologie as klaskamerinstrument om leerders se inligtinggeletterdheid te ontwikkel as belangrik.

Volgens die U.S. Department of Education (2017:7, aangehaal in Taylor en Van der Merwe 2019:5) sal vernuwing in die digitale onderwys “die wyse waarop leerders leer, en selfs dit wát hulle leer (vaardighede) transformeer” en daarom “behoort skole aangemoedig te word om die geleenthede raak te sien wat sulke gereedskap of vaardighede bied om leer en onderrig te verbeter”. Alhoewel tegnologie ’n rol in die klaskamer kan speel om hierdie onderrig- en leerideale te verwesenlik, is navorsing binne die plaaslike opvoedkundige domein nodig om te bepaal hoe hierdie vernuwende praktyke in skole geïmplementeer word.

Op grond van die bostaande argumente identifiseer ons die volgende probleme wat skakel met die rasionaal en motivering vir hierdie studie:

  1. Die tradisionele kurrikulêre benaderings tot taalonderrig spreek vermoedelik nie tot die onderrig- en leerbehoeftes van die 21ste-eeuse leerder nie.
  2. Die onderwysers wat daarvoor verantwoordelik is om kurrikulêre strategieë uit te voer, is nie noodwendig vertroud met die onderrig- en leervoorkeure van die 21ste-eeuse leerder nie.

Die volgende navorsingsvrae is ontwikkel om leerder- en onderwyserperspektiewe aangaande die integrasie van tegnologie in die taalonderrigruimte van die 21ste-eeuse leerder te ondersoek, ten einde vas te stel of tegnologie-integrasie binne die nasionale kurrikulum vir taalonderrig tot voordeel van hedendaagse leerders geïntegreer kan word:

  1. Wat is taalonderwysers se perspektiewe oor die onderrig- en leerbehoeftes van die 21ste-eeuse leerder en hoe vergelyk hierdie beskouings met die leerders se perspektiewe?
  2. Wat is taalonderwysers se perspektiewe oor die skakeling tussen tegnologie-integrasie en die onderrig- en leerbehoeftes van die 21ste-eeuse leerder?

 

2. Literatuurstudie

2.1 ’n Blik op onderwyserperspektiewe

Daar word wyd in die literatuur gerapporteer dat die bestudering van onderwyserperspektiewe belangrik is vir die verbetering van opvoedkundige prosesse. Om te probeer begryp hoe en tot watter mate onderwysers 21ste-eeuse onderrig- en leerbenaderings binne die taalonderrigruimte sal integreer, is dit nodig om die perspektiewe wat moontlik onderwysers se werkswyse beïnvloed, beter te verstaan.

Solis (2015:247–48) definieer perspektiewe as teorieë wat mense genereer om aan te pas by die omgewing, feite te interpreteer, situasies te verduidelik en hul gedrag te bepaal. Volgens Steel (2009:401–2) is perspektiewe deel van subjektiewe kennis wat beskryf kan word as houdings, waardes, oordele, menings, ideologieë, persepsies, opvattings, vooroordele, ingesteldhede, implisiete en eksplisiete teorieë, persoonlike teorieë, innerlike geestelike prosesse, aksiestrategieë, praktykreëls of praktiese beginsels.

Ter ontleding van die term onderwyserperspektiewe het ons die volgende omskrywings as uitgangspunt vir hierdie studie geneem.

Die HAT (Luther 2009) definieer perspektief (s.nw.) as:

  1. ’n manier van dink oor iets wat beïnvloed word deur jou eie omstandighede/ ervarings;
  2. ’n nugter beoordeling/beskouing van ’n situasie sodat jy dit sien soos dit regtig is.

Om ’n omvattende begrip van die onderwyser te bestendig, verwys ons na die beleid van die minimumvereistes vir onderwysersopleidingskwalifikasies (DHOO 2011) wat ses van die onderwyser se sewe eienskappe soos volg omskryf:

  1. Spesialis in ’n fase, vakdissipline of praktyk
  2. Leerbemiddelaar
  3. Interpreteerder en ontwerper van leerprogramme en -materiaal
  4. Leier, administrateur en bestuurder
  5. Wetenskaplike, navorser en lewenslange leerder
  6. Assessor.

Die onderwyserbeeld wat deur hierdie beleid van die minimumvereistes vir onderwysersopleidingskwalifikasies (Departement van Hoër Onderwys en Opleiding 2011) geskets word, beskou die eienskappe van die onderwyser as breed en uiteenlopend. Ons redeneer in hierdie verband dat indien die onderwyser so ’n diverse en ook betekenisvolle rol binne sy/haar skoolmilieu vertolk, dit duidelik blyk dat die bestudering van die “beskouings”, “beoordeling” en “manier van dink oor iets wat beïnvloed word deur jou eie ervarings” ’n kernoorweging binne die domein van opvoedkunde navorsing behoort te wees.

Lising en Elby (2005:373) beskryf onderwyserperspektiewe as die verskillende denke oor opvoedkundige prosesse, soos die kurrikulum, skoolopleiding, onderrig- en leerprosesse en kennisverkryging. Volgens hierdie outeurs word perspektiewe as kognitiewe modelle beskou wat onderwysers se praktyk en verwerking van nuwe inligting bestuur, of as bemiddelaars tussen kurrikulumdoelwitte en hul werklike implementering dien.

Daar is volgens Fives en Buehl (2012:480) ’n belangrike skakel tussen onderwyserperspektiewe en hul verhouding tot die praktyk. Dié outeurs beklemtoon die verhouding tussen onderwyserperspektiewe en -praktyk deur te erken dat daar ’n verwantskap is tussen die onderwyser se praktyk en die onderwyser se unieke ervarings, individuele konsepte en hulle interaksies met plaaslike kontekste.

Vandeyar en Killen (2006:30) beskryf perspektiewe as geïntegreerde stelsels van konsepte wat funksioneer om betekenis aan die interaksies in klaskamers te verleen. Hierdie geïntegreerde stelsels van konsepte verwys na ’n breë spektrum van kwessies (soos amptelike kurrikulum, persoonlike ervarings, kontekstuele faktore en opleiding) wat uiteindelik die onderwysers se persoonlike teorieë oor onderrig vorm. Perspektiewe kan ook in hierdie verband volgens Vandeyar en Killen (2006:30) as bepalers vir handelinge beskou word, omdat dit onderwysers se oordele beïnvloed om op maniere op te tree wat daardie perspektiewe sal versterk.

Wilen, Ishler, Hutchinson en Kindsvatter (2000:14) verbind onderwyserperspektiewe met beide kognitiewe en affektiewe eienskappe. Hierdie navorsers het ook bevind dat oortuigingstelsels uit twee elemente, naamlik die intuïtiewe en die rasionele, bestaan. Die intuïtiewe deel behels tradisionele praktyke, persoonlike behoeftes en indrukke wat op ervarings gebaseer is. Die rasionele komponent bestaan uit pedagogiese beginsels, konstruktivistiese benaderings, wetenskaplike bydraes, asook die praktyk. Onderwysers se perspektiewe is dus ’n komplekse en verweefde stelsel wat persoonlike en professionele kennis verteenwoordig.

Binne die kontekstuele raamwerk van die onderhawige studie, beklemtoon ons ook dat dit fundamenteel tot die verbetering van gehalte tegnologie-integrasie is dat onderwysers se perspektiewe oor tegnologiese praktyke erken sal word as ’n belangrike faktor wat volgens Kim, Kim, Lee, Spector en DeMeester (2013:77) tegnologie-integrasie sal kan bevorder of inhibeer.

Ertmer (2005:30–1) verwys verder na Niederhauser en Stoddart (2001) wat voorstel dat onderwysers tegnologie op maniere sal gebruik wat in ooreenstemming met hul persoonlike perspektiewe oor kurrikulum- en onderrigpraktyk is. Die redenasie wat Niederhauser en Stoddart (2001) volgens Ertmer (2005:30–1) hier wil tuisbring, is dat indien tegnologie aangebied word as ’n instrument om byvoorbeeld leerdergesentreerde leer te fasiliteer, onderwysers met onderwysergesentreerde perspektiewe minder geneig sal wees om die instrument as sodanig te gebruik. Die teenpool van die argument is dat indien die gebruik van tegnologie die soort tradisionele aktiwiteite waarmee hulle gemaklik is, ondersteun, die waarskynlikheid van tegnologie-integrasie groter is.

Ter samevatting van hierdie bespreking word onderwyserperspektiewe binne hierdie studie beskou as die kragtige persoonlike gevoelens en oortuigings van die onderwyser oor kwessies wat die onderrig- en leerinteraksie beïnvloed. Perspektiewe word daarom as kompleks, dinamies, gekontekstualiseerd en sistemies van aard oorweeg en word verbind met die dialektiese en interverwantskaplike aard van perspektiewe, wat veronderstel dat geen perspektief in isolasie gevorm word of voortbestaan nie. Perspektiewe word dikwels “verskuil” in begrippe soos waardes, oordele, menings, ideologieë, disposisies, persoonlike teorieë, interne kognitiewe prosesse en praktykbeginsels van die onderwyser.

Daarbenewens word onderwyserperspektiewe as deel van ’n substruktuur van oortuigings beskou en perspektiewe word nie noodwendig binne hierdie strukture logies georden/gevorm nie. Ons erken daarteenoor dat selfs teenstrydige perspektiewe binne breër oortuigings oor verskeie kwessies met betrekking tot opvoedkunde by die onderwyser kan bestaan.

2.2 ’n Nuwe tipe leerder

Dziuban, Moskal en Hartman (2005:2) beweer dat geleerdes hul aandag met groter dringendheid moet vestig op die verskynsel van die “nuwe” of “volgende generasie” leerder. Om vandag se leerders, volgens Dziuban e.a. (2005:2), as “nuwe leerders” te definieer, dui op ’n fundamentele verskil in die manier waarop leerders kennisverwerwing, probleemoplossing en die werksmag benader. Die vraag ontstaan egter of onderwys wel aan die behoeftes van die huidige generasie leerder voldoen.

Die leefwêreld van die 21ste-eeuse leerder verskil aansienlik van dié van leerders van die vorige eeu. Hedendaagse leerders word groot in ’n vinnig-ontwikkelende digitale wêreld en daar word ook na hulle as digitale boorlinge verwys. Kukulska-Hulme (2012:74) beskryf die ideale 21ste-eeuse leerder as iemand wat aktief by leerprosesse betrokke is, vrae vra en analities kan dink, wat ’n betrokke burger is, wat met navorsings- en navraagvaardighede toegerus is, ’n onafhanklike kritiese oordeel kan uitoefen, ’n medeskepper van kennis is, effektief in die werklike leefwêreld kan funksioneer, goed oor kulturele grense heen kan kommunikeer en laastens gemotiveerd en toegerus is om ’n lewenslange leerder te word.

Een van die belangrikste kenmerke van die 21ste-eeuse leerder, volgens Dziuban e.a. (2005:3), is hierdie “Net-Generasie” se tegnologiese bemagtiging. Die 21ste-eeuse leerder kommunikeer meestal deur middel van selfoonboodskappe en die sosiale media en is oor die algemeen vertroud met vinnig-opkomende tegnologieë.

Dziuban e.a. (2005:3) is van mening dat hierdie “nuwe leerder” dikwels stres ervaar wanneer hulle behoefte aan groepswerk en sosiale kennisbouende leersituasies deur ’n skoolomgewing onderdruk word waar daar dikwels grootliks op individuele prestasie gefokus word. Alch (2000:4) het ook vroeër hierdie waarneming gemaak deur te noem dat 21ste-eeuse leerders dikwels tegnologie gebruik om hulle behoefte aan samewerking, interafhanklikheid en sosialenetwerkgeleenthede te bevredig om deur middel van hierdie sosiale interaksie hul persoonlike doelwitte te bereik. Redecker e.a. (2011:31) veronderstel dat toekomsgerigte leer ’n meer aktiewe deelname van leerders vereis, met die fokus op leer deur die toepassing van kennis, die leerervaring en die betrokkenheid en verbintenis tot die leerproses. Terselfdertyd moet die leerproses meer sosiaal en samewerkend wees, met elke leerder wat sy/haar kennis in wisselwerking met ander en binne die konteks van praktiese toepassings en take konstrueer.

McGlynn (2005:15) beaam Dziuban e.a. (2005:3) en Alch (2000:4) se argumente deur te noem dat die 21ste-eeuse leerder verhoudings waar samewerking ’n prioriteit is, prioritiseer. ’n Belangrike oorweging vir die doeleindes van hierdie onderhawige studie is die werk van McGlynn (2005:15) wat veronderstel dat hierdie sogenaamde “nuwe leerder” verkies om hulle eie tempo en voorwaardes vir leer te bepaal. Dziuban e.a. (2005:3) identifiseer ook ’n verdere leervoorkeur wat dui op die hedendaagse leerder se behoefte om betrokke te wees by werklike, outentieke lewenskwessies wat vir hulle van belang is. Die klaskamerruimte moet met ander woorde ’n ware blik op die samelewing bied en kennis op maniere aanbied wat hierdie werklikheid weerspieël.

Roehl, Reddy en Shannon (2013:44) redeneer ook dat daar dringendheid is om by die leervoorkeure van die 21ste-eeuse leerder om aan te pas, aangesien opvoeders toenemend sukkel om die aandag van vandag se leerders te kry en te behou. Die bogenoemde skrywers is van mening dat hierdie leerders se relatiewe onverdraagsaamheid teenoor die lesingstylverspreiding van inligting toegeskryf kan word aan die vinnig-ontwikkelende tegnologieë waarmee hierdie geslag grootword. Prensky (2001:1‒6) het vroeër al beklemtoon dat die integrasie van leerstrategieë wat aktiewe leerderdeelname in die klaskamer bevorder, van kritieke belang is om aan die 21ste-eeuse leerder se behoeftes te voldoen. Die 21ste-eeuse leerder behoort tot so ’n mate by die onderrig- en leerproses betrek te word dat hulle presies weet watter doelwitte en take daagliks bereik moet word. Hy glo dus dat kommunikasie as deurslaggewend tot die optimale onderrig van die moderne leerder beskou behoort te word.

Darling-Hammond (2006:13) sê met verwysing na 21ste-eeuse onderrig dat leer nou nie meer net met leerders, en onderrig met onderwysers, verbind moet word nie, maar dat daar nou ’n nuwe perspektief ten opsigte van hierdie aksies is. Taylor en Van der Merwe (2019:302) verhelder Darling-Hammond (2006:13) se argument aangaande die veranderende rolle in die klaskamerkonteks, deur die onderwyser as die “kreatiewe uitbouer” van die kurrikulum te beskryf wat “die behoeftes van die 21ste-eeuse leerder in een haalbare plan binne die klaskamer bymekaar kan bring”. Volgens Kalpana (2014:27) en Ah-Nam en Osman (2017:206) korreleer die behoeftes van die 21ste-eeuse leerder met die gebruik van tegnologie sodat daar op ’n aktiewe en dinamiese wyse binne die klaskamerkonteks nuwe kennis geskep kan word.

Ter samevatting leer die 21ste-eeuse leerder anders as enige vroeëre generasie as gevolg van hul blootstelling aan tegnologie. Opvoeders moet hierdie verskille in ag neem wanneer onderrigleerstrategieë ontwerp word. Dit is beslis nie nuwe kennis dat die hedendaagse leerder aan mobiele toestelle geheg is nie. Soekenjins en die sosiale media is die huidige jong generasie se hulpbronne vir inligting en hulle deel voortdurend onderling kennis en insigte met mekaar deur middel van hierdie media, aangesien hulle in staat gestel word om onmiddellike terugvoer te kan gee en te ontvang. Taylor en Van der Merwe (2019:303) opper soos volg ’n belangrike standpunt in hierdie verband: “Dat leerders globaal verander het, impliseer dat ook die Suid-Afrikaanse klaskamerkonteks digitale boorlinge bevat wat óók alreeds oor ‘n sekere hoeveelheid tegnologiese kennis beskik.” Die onderrig- en leervoorkeure van die 21ste-eeuse leerder noop dus die onderwyser om die aanbieding van taalonderrig in die klaskamer te heroorweeg en te beplan hoe vernuwende onderrigleermetodes die hedendaagse leerder se onderrig- en leervoorkeure onder die loep kan neem.

2.3 Die gebruik van tegnologie in die klaskamer

Kim e.a. (2013:76‒7) maak die stelling dat tegnologie, as ’n internasionale verskynsel, ’n belangrike deel van mense se alledaagse lewens geword het en dat pogings om onderwys deur middel van tegnologie-integrasie te verbeter, wêreldwyd sterk in onderwysersopleiding en professionele ontwikkeling beklemtoon word. Haelermans (2017:17) verwys na leerders wat reeds verskeie soorte digitale tegnologie, soos rekenaars, tablette, slimfone en interaktiewe witborde, maar ook sagteware soos opvoedkundige speletjies, in die klaskamer gebruik

Grand-Clement (2017:4) en Taylor en Van der Merwe (2019:303) beaam hierdie argument dat tegnologie deel vorm van die hedendaagse leerder se algehele verwysingsraamwerk en dat hierdie aspek binne die kontekstuele raamwerk van die 21ste-eeuse klaskamer in ag geneem moet word. Die onderwyser word dus genoodsaak om die ontwikkeling van tegnologiese vaardighede by leerders binne die klaskamerruimte te verreken.

Taylor en Van der Merwe (2019:513) verwys egter na Healey, Hanson-Smith, Hubbard, Ioannou-Georgiou, Kessler en Ware (2011:2) wat redeneer dat die gebruik van tegnologie in die klaskamer nie ’n nuwe verskynsel is nie. Die tempo en omvang van die verandering in tegnologie vir onderrig het dit egter vir baie onderwysers moeilik gemaak om te weet hoe om rekenaars en ander vorme van digitale tegnologie die beste te gebruik om leer te ondersteun.

Ons glo dat die verbetering van gehalte tegnologie-integrasie fundamenteel is en dat onderwysers en leerders se volgehoue perspektiewe oor tegnologiese praktyke as ’n belangrike faktor erken moet word, anders kan tegnologie-integrasie vertraag of inhibeer word (Kim e.a. 2013:77). Vervlegte leer word beskou as ’n kombinasie van aangesig-tot-aangesig en aanlyn onderrig. Binne hierdie onderrigleerbenadering word tegnologie gebruik om nuwe, voorheen ondenkbare take te skep en om samewerkende, konstruktivistiese en outentieke leerervarings te ondersteun.

Daar moet ook binne die opvoedkundige konteks aandag geskenk word aan hoe die klas gestruktureer behoort te word, hoe tyd gebruik moet word en hoe beperkte hulpbronne toegewys moet word. Hierdie vernuwende onderrigleerbenadering verteenwoordig ’n fundamentele herkonseptualisering en herorganisasie van die onderrig- en leerdinamiek soos wat leerders deur middel van tegnologie-integrasie ’n samewerkende en konstruktivistiese aanslag tot leer ontwikkel (Bailey, Ellis, Schneider en Vander Ark, 2013:1–8).

Camilleri en Camilleri (2017:6) erken die sentrale rol wat onderwysers speel om effektiewe integrasie van tegnologie in die klaskamer teweeg te bring. Taylor en Van der Merwe (2019:516) beklemtoon met verwysing na die sinvolle gebruik van IKT (Inligting- en Kommunikasietegnologie) dat onderwysers “volhoubare professionele ontwikkeling en opleiding in hierdie verband benodig”, aangesien die “integrasie van digitale tegnologie ’n manier is om die kurrikulumverwagtinge oor e-leer in skoolonderwys te aktualiseer.”

Alvorens ons die navorsing bespreek, is dit belangrik om die onderliggende navorsingsontwerp van die studie te omskryf.

 

3. Navorsingsontwerp

3.1 Interpretivistiese gevallestudie

Die bestudering van onderwysers en leerders se perspektiewe het die potensiaal om betekenisvolle insigte te bied oor baie aspekte van die onderwyspraktyk. Beligting van onderwysers se perspektiewe kan die opvoedkundige praktyk aanvul, verhelder en bydra tot die verbetering van die onderwyspraktyk. Hierdie studie beoog om die impak van hierdie perspektiewe op onderrigpraktyk gedurende ’n tydperk van transformasie in die onderwys te ondersoek. Kwalitatiewe en kwantitatiewe metodes is albei geskik om die subjektiewe perspektiewe van taalonderwysers en die hedendaagse leerders oor die gebruik van tegnologie in die klaskamer te ondersoek.

Dit is belangrik om voor oë te hou dat hierdie perspektiewe subjektief is en juis daarom ook moeilik is om te definieer en te interpreteer. Henning, Van Rensburg en Smit (2004:21) beklemtoon dat verskynsels en gebeure wat deur die navorser ondersoek en geïnterpreteer word, ook deur sosiale kontekste beïnvloed word.

Volgens Nieuwenhuis (2016:59) kan die werklikheid nie objektief bepaal word nie, maar word dit eerder sosiaal binne die spesifieke konteks gekonstrueer en geïnterpreteer. Persone interpreteer dikwels die werklikheid volgens hulle eie kulturele agtergrond en gevolglik bepaal persoonlike ervarings dikwels hulle siening van die wêreld en die werklikheid. In ooreenstemming hiermee stel Denscombe (2007:68) dat wanneer mense probeer om sin te maak van wat hulle waarneem, hulle staatmaak op dit wat hulle reeds weet en glo. Mense kan dus merendeels net die werklikheid beskryf soos hulle dit persoonlik sien, en hoe hulle dit sien sal gebaseer wees op hulle unieke agtergrond.

Die interpretivistiese paradigma veronderstel dat ’n unieke perspektief van die geval verkry word deur te probeer verstaan hoe betekenis in ’n bepaalde konteks ontwikkel. Hierdie beskouing plaas die studie gevolglik binne die interpretivistiese paradigma omdat die navorsing gebaseer is op die uitgangspunt dat onderwysers en leerders se leefwêrelde een is van diverse en komplekse verskynsels met veelvlakkige betekenisse, interpretasies en ervarings. Die studie poog om te verstaan hoe hierdie betekenisse binne ’n bepaalde konteks ontwikkel.

Ons uitgangspunt in hierdie verband word verhelder deur Henning e.a. (2004:21) wat beskryf hoe individue binne die interpretivistiese paradigma oor die vaardighede beskik om ’n individuele oordeel te vel en oor die agentskap beskik om hul eie persepsies te vorm en besluite te neem. Daar word aanvaar dat oorsake en gevolge interafhanklik is en dat elke gebeurtenis deel vorm en verduidelik kan word aan die hand van meervoudige, interafhanklike faktore. Algehele objektiwiteit is ’n uitdaging – juis omdat individue betekenis aan gebeure verleen op grond van hul individuele betekenissisteme.

Taylor en Van der Merwe (2019:518) verwys na Taylor en Medina (2013:4) wat redeneer dat interpretivisme belangrik is vir opvoedkundige navorsing, “want dit stel navorsers in staat om begrip van die werklike-wêreld-ervarings van onderwysers en leerders binne die konteks van die klaskamer, organisasie en gemeenskap te verkry en dan afleidings te maak wat ’n bydrae tot navorsing kan lewer.”

In hierdie studie ondersoek ons ’n geval waar die gebruik van tegnologie binne ’n spesifieke artikel 21-skool in die Wes-Kaap deur taalonderwysers as onderrig- en leerbenadering aangewend word. Ons poog om die perspektiewe rakende tegnologie-integrasie van hierdie betrokke skool se taalonderwysers en die leerders wat hulle klaskamers bevolk deur middel van ’n interpretivistiese gevallestudiebenadering te ontleed.

Rule en John (2011:4) verduidelik dat ’n gevallestudie ’n stelsel, ’n instansie, ’n program, ’n klaskamer, ’n groep, ’n persoon of gebeurtenis kan wees. Hierdie beskouing van gevallestudienavorsing word belyn met die navorsers se doel om ’n begrip te ontwikkel van ’n individuele geval en om nie ’n universele veralgemening te vorm nie. Aangesien die studie daarna streef om die realiteite van deelnemers binne ’n gegewe konteks te verstaan, is dit dus belangrik om hierdie aspek in ag te neem alvorens veralgemenings vanuit hierdie studie gemaak kan word.

Ten einde taalonderwysers en leerders se perspektiewe oor die integrasie van tegnologie met enige mate van akkuraatheid te kan aflei, benodig die navorser verskeie gevarieerde hulpbronne waaruit hierdie afleidings gevorm kan word. Dit is binne die konteks van hierdie studie belangrik om te beskryf wat die persoon glo en hoe hulle verskillende perspektiewe, soos hul perspektiewe oor vervlegte leer, onderrig- en leerbenaderings en taalonderrig aan die 21ste-eeuse leerder, met mekaar verband hou. Om hierdie perspektiewe te verstaan, word ’n interpretivistiese gevallestudie-ontwerp (Creswell 2012:15) as benadering deur die navorser aangewend om as raamwerk vir die insameling van data te dien ten einde die doelstellings van die studie te realiseer.

3.2 Data-insamelingsmetodes en instrumente

’n Interpretivistiese gevallestudiemetode is ’n navorsingsbenadering wat ’n verskynsel binne ’n bepaalde konteks wil verken deur van ’n verskeidenheid databronne gebruik te maak. So ’n benadering kan verseker dat die probleem nie deur slegs een lens ondersoek word nie, maar eerder deur ’n verskeidenheid lense wat toelaat dat verskeie fasette van die verskynsel ontleed en verstaan word (Baxter en Jack 2008:554).

In die gevallestudie word data van verskillende bronne in die ontledingsproses as ’n eenheid beskou, eerder as dat dit individueel hanteer word. Elke databron is een stuk van die legkaart, met elke stuk wat bydra tot die navorser se beter begrip van die hele verskynsel. Hierdie skakeling voeg geloofwaardigheid toe aan die bevindings, aangesien die verskillende dele van data saamgevleg word om ’n beter begrip van die saak te bevorder.

Interpretatiewe gevallestudienavorsing kan uitgeken word aan die fokus op noue interaksie tussen die navorser en deelnemers gedurende die gevallestudieproses. Hiermee word die etnografiese outoriteit van die studie ook beklemtoon, siende dat die navorsers direk in die navorsingsveld aanwesig was en ons interpretasie van die onderhoude daarom ook as geldig beskou behoort te word.

Alhoewel die interpretivistiese perspektief ’n aktiewe rol aan die gevallestudiedeelnemers toeskryf, is die omvang van hierdie betrokkenheid in die praktyk gewoonlik beperk tot die data-insamelingsproses (Bygstad en Munkvold 2011:32).

Vir die doel van ons studie, is die graad 8–12 taalonderwysers by spesifieke ’n artikel 21-hoërskool in die Wes-Kaap genader. Die redes vir die keuse van graad 8–12 taalonderwysers was eerstens dat die gekose skool in die proses was om ’n vervlegteleerbenadering, wat die gebruik van tegnologie behels, te implementeer, en tweedens dat een van die navorsers as praktisyn by die betrokke skool verantwoordelik was om die integrasieproses van hierdie nuwe onderrig- en leerbenadering te monitor en ondersteuning aan die betrokke deelnemende onderwysers te bied.

Met betrekking tot interpretatiewe gevallestudies kan onderhoude as ’n primêre databron beskou word om aan die navorser toegang te bied tot deelnemers se perspektiewe rakende die aksies en gebeure wat plaasvind en persoonlike oortuigings oor hulself en ander deelnemers.

Ons het semigestruktureerde onderhoude gebruik om data te genereer en dit het ons toegelaat om data te versamel oor die hoofkwessies wat in die studie van belang is, naamlik:

  • Perspektiewe en konseptualisering van tegnologie-integrasie in die taalonderrigruimte
  • Perspektiewe rakende leervoorkeure van die 21ste-eeuse leerder
  • Perspektiewe ten opsigte van onderwysers en leerders se rolle
  • Algemene perspektiewe oor die gebruik van tegnologie in die klaskamer
  • Onderrigbenaderings en rasionaal, onderwysers se gedagtes oor hoe taalonderrig plaasvind en wat die ideaal behoort te wees.

Semigestruktureerde, eerder as gestruktureerde onderhoude, is aangewend omdat dit voldoende buigsaamheid gebied het om die onderskeie deelnemers verskillend te benader, terwyl dieselfde gebiede van data-insameling steeds gedek is. Kallio, Pietila, Johnson en Kangasniemi (2016) verduidelik hoe die onderhoudsgids van die semigestruktureerde onderhoud ’n gefokuste struktuur vir die bespreking bied, maar dat hierdie struktuur nie te streng gevolg moet word nie. Die idee is eerder om die navorsingsarea te verken deur soortgelyke inligting van elke deelnemer te versamel deur leiding te gee met betrekking tot die gesprekspunte gedurende die onderhoud.

Elke onderhoudsessie wat ons gevoer het, het ongeveer ’n driekwartier geduur en is ontwerp om onderwysers aan te moedig om vryelik oor tegnologie-integrasie te praat en kwessies te identifiseer wat vir hulle belangrik is. In vergelyking met ander tegnieke vir data-insameling, kan deelnemers se perspektiewe tydens onderhoude dien as ’n ryk bron om mense se innerlike gevoelens te verken en daarom was die tegniek vir ons van groot waarde, aangesien dit ’n breedvoerige en holistiese beskrywing van die onderwysers se perspektiewe aangaande 21ste-eeuse leer beklemtoon het.

’n Verdere tegniek vir data-insameling wat in die onderhawige studie gebruik is, is ’n fokusgroep. Volgens Denscombe (2007:115) bestaan ’n fokusgroep uit ’n klein groepie mense wat deur ’n opgeleide moderator (die navorser) bymekaar gebring word om houdings, persepsies, gevoelens en idees oor ’n bepaalde onderwerp te ondersoek. Denscombe (2007:115) verduidelik voorts dat ’n fokusgroep ’n geleentheid vir ’n relatief homogene groep mense bied om na te dink oor die vrae wat deur die onderhoudvoerder gevra word. Ons fokusgroep het uit vier onderwyserdeelnemers bestaan wat die onderskeie taaldepartemente van die skool verteenwoordig. Die deelnemers is egter ook gekies op grond van die individuele oordeel van die navorsers, om sodoende te verseker dat die fokusgroepdeelnemers die nodige inligting vir die navorsing kon voorsien. Die sessie het ongeveer 60 minute geduur. Hierdie metode was nuttig vir die verdere verkenning van gedeelde sienings en perspektiewe met betrekking tot tegnologie-integrasie en taalonderrig aan die 21ste-eeuse leerder.

Ten einde leerderperspektiewe aangaande tegnologie-integrasie in die taalonderrigruimte te ondersoek, het ons vraelyste aan die helfte (66) van die leerders wat deur die deelnemende onderwysers onderrig word, gestel. Die vraelyste (Bylaag A) is deur Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap van die Universiteit Stellenbosch verwerk ten einde die leerderantwoorde visueel voor te stel. Die navorsers het hierdie grafiese voorstellings gebruik om die betrokke taalonderwysers se perspektiewe en vertellings met leerderervarings binne die taalonderrigruimte te vergelyk. Indien die onderwyserdeelnemers byvoorbeeld gedurende die onderhoude of fokusgroep aangedui het dat hulle ervaar dat leerders graag tegnologie in die klaskamer gebruik, sou die statistiek wat deur die vraelyste verkry is geldigheid aan daardie stellings verleen of, soos in sekere gevalle aangedui, verskille in perspektiewe uitlig. Die vraelyste is ook aangewend om bestaande opvattings binne die literatuur oor 21ste-eeuse onderrig en -leervoorkeure teenoor die opvattings van die hedendaagse Suid-Afrikaanse leerder op te weeg en insigte aangaande 21ste-eeuse onderrig en leer binne die plaaslike taalonderrigruimte te verdiep.

3.3 Etiese oorwegings

Die volgende etiese kwessies is in ag geneem gedurende die uitvoering van die gevallestudienavorsing: egtheid, geloofwaardigheid van die navorsingsverslag, die potensiële magsposisie van ons as beide praktisyn en navorser, asook kwessies van persoonlike privaatheid en bekendmaking. Hierdie kwessies is in ag geneem voor die uitvoer van die studie, gedurende die aanvang van die studie, tydens data-insameling en data-analise, met die verslaggewing, asook tydens die deel en stoor van die data.

Die volgende beginsels, gebaseer op Creswell (2003) se werk, is in ag geneem tydens die insameling van data:

  • Die skoolterrein is gerespekteer en so min as moontlik versteur. Ons het sensitief opgetree om die impak en die ontwrigting op die fisiese omgewing te minimaliseer. Ons het alle onderhoude binne ’n spesifieke tydsraamwerk geskeduleer om sodoende nie op die roetine van die skoolskedule van die deelnemers inbreuk te maak nie. Verder het ons die skool se riglyne vir die uitvoer van navorsing volledig gerespekteer.
  • Ons het verder verseker dat alle partye vooraf behoorlik ingelig is oor die voordele van die navorsing. Ons het verseker dat alle partye uit vrye wil aan die ondersoek sou deelneem en daarbenewens is toestemmingsbriewe deur alle deelnemende partye onderteken.
  • Gedurende die proses van onderhoude kan daar moontlik ’n magswanbalans tussen die data-insamelaars en die deelnemers wees. In hierdie ondersoek is potensiële magswanbalanse oordeelkundig bestuur deur te verseker dat die deelnemers ’n sê het in hoe hulle stellings geïnterpreteer word, hoe krities die deelnemers bevraagteken is en wat die positiewe gevolge van die onderhoud vir die deelnemers en die groepe waaraan hulle behoort, kan wees.
  • Gedurende data-analiseproses het ons sensitiwiteit getoon om nie slegs positiewe resultate uit te lig nie. Ons was nie akademies oneerlik deur belangrike resultate te weerhou of om die resultate in ’n gunstige lig op die deelnemers of die navorsers se bevindinge te werp nie. Die verslag het die diversiteit van perspektiewe oor die onderwerp akkuraat weergegee.
  • Ons het verder die privaatheid van die deelnemers beskerm. Die name van deelnemers is nie gedurende die kodering en die proses van ontleding en optekening bekend gemaak nie.
  • Ons het nie outeurskap, bewyse, data, bevindinge en gevolgtrekkings vervals nie. Met die interpretasie van data het ons ’n akkurate weergawe van die inligting verskaf. Ons het ook nie enige data aangepas om die verwagtinge van enige deelnemers in die navorsingsproses te bevredig nie.
  • Rou data en ander navorsingsmateriaal sal vir vyf jaar gestoor word, nadat die navorsing gepubliseer is.

Etiekklaring is by die Universiteit Stellenbosch se Navorsingsetiekkomitee verkry en die volgende betrokke owerhede het toestemming vir die navorsingsprojek verleen voordat ons enige data ingesamel het:

  1. die WKOD;
  2. die skoolbeheerliggaam (SBL) van die betrokke hoërskool.

Toestemmingsbriewe is deur al die deelnemers onderteken nadat ons breedvoerig aan die onderwysers en leerders die proses en omvang van die studie verduidelik het.

3.4 Betroubaarheid

Kriteria vir betroubaarheid in kwalitatiewe navorsing is nou gekoppel aan die paradigmatiese begronding van die besondere dissipline waarin ’n bepaalde ondersoek gedoen word. Met die interpretivistiese paradigma as raamwerk, is die volgende stappe gedoen om te verseker dat die navorsing as betroubaar geag word:

  1. ’n Aantal proefonderhoude is vooraf gevoer om te verseker dat die vrae van die onderhoudskedule vir die deelnemers duidelik sou wees. Ons het een hoërskoolonderwyser vanuit die Wes-Kaap en een dosent van die Universiteit Stellenbosch geïdentifiseer met wie hierdie proefonderhoude gevoer is. Op grond van ons ervaring tydens hierdie onderhoude, asook volgens die terugvoer van die twee proefpersone, is die vrae aangepas.
  2. Ons is van mening dat dit waardevol is om die mening van kenners in verband met die betrokke navorsingsinstrumente in te win. In ooreenstemming met hierdie standpunt het ons die betrokke onderhoudsvrae aan ’n kundige op die gebied van vervlegteleerintegrasie gerig. Die kundige het in 2018 haar tweede doktorsgraad met vervlegte leer as onderwerp verwerf . Namate ons en die betrokke kundige konsensus bereik het oor die geldigheid van die navorsingsvrae van hierdie onderhawige studie se onderhoudskedule, is groter geldigheid aan hierdie studie verleen.
  3. Hierdie navorsing dra ’n etnografiese outoriteit, siende dat die navorsers direk in die navorsingsveld aanwesig was, en daarom behoort ons interpretasie van die onderhoude ook as geldig beskou te word.
  4. Die betroubaarheid van die navorsing is verhoog deur die deursigtige optrede van die navorsers. Die navorsers is eerlik oor wat hulle in die navorsingsveld gedoen het, asook oor hulle aksies met betrekking tot databestuur, -kodering en -analise.

 

4. Bevindinge

4.1 Wat is taalonderwysers se perspektiewe oor die onderrig- en leerbehoeftes van die 21ste-eeuse leerder?

Die eerste navorsingsvraag wat rigtinggewend vir hierdie studie is, is: Wat is taalonderwysers se perspektiewe oor die onderrig- en leerbehoeftes van die 21ste-eeuse leerder en hoe vergelyk hierdie beskouings met die leerders se perspektiewe? Dit is ons uitgangspunt dat dit noodsaaklik is vir die onderwyser om ’n breë begrip van leerderbehoeftes in hierdie verband te hê ten einde tegnologie-integrasie sinvol met die kurrikulumdoelstellings te belyn. Die agt deelnemers se antwoorde word volgens ’n kode aangedui. Die D staan vir deelnemer en FD staan vir fokusgroepdeelnemer en elke deelnemer is genommer om hulle identiteit te beskerm.

Volgens deelnemer 6 (voorts D6) is

’n 21ste-eeuse leerder iemand wat met ’n hele ander verwysingsraamwerk grootgeword het as wat ons het. Hulle hele lewe gaan oor tegnologiegebruik, elektronikagebruik en om ten alle tye in verbinding met mekaar te wees. Hulle ken nie ’n tyd voor selfone of rekenaars nie, so vir hulle is dit nogal ’n instant gratification-wêreld, waar hulle onmiddellike antwoorde wil hê en die heeltyd gestimuleer word. Hulle is altyd aan die gang en besig om met mense te kommunikeer op een of ander platform.

Hierdie deelnemer se perspektief oor die onderrig- en leerbehoeftes van die 21ste-eeuse leerder sluit aan by Watson (2008:15) se siening wat soos volg verwoord word: “You’re talking about a new paradigm for both teacher and students, no longer defined by the four walls.”

Watson (2008:15) se veronderstelling dat tegnologie die leerruimte tot buite die klaskamergrense uitbrei, word later deur Taylor en Van der Merwe (2019:302) bevestig. Dié outeurs beklemtoon dat die skoolklaskamer met nuwe oë beskou moet word. Murray (2004:106) beklemtoon ook die fasiliterende rol wat die onderwyser moet vertolk ten einde te verhoed dat hierdie nuwe leerder nie te verveeld raak en akademiese pogings staak nie. D6 se perspektief is in ooreenstemming met Murray (2004:106) se argument dat die 21ste-eeuse leerder nie te lank met dieselfde taak kan besig bly nie, maar dat verskeie motiverings benodig word om werklik betekenisvolle leerprosesse mee te bring. Volgens Murray (1004:106) is die gevolg egter dat hierdie nuwegenerasieleerder se aandagspan baie korter is, wat weer ’n verdere impak op hulle vermoë tot kritiese denkvaardighede en introspeksie het. Die onderwyserdeelnemers se waarneming dat leerders vinnig verveeld word en dat leerders se aandag derhalwe gou afgelei word, kan as motivering vir die integrasie van tegnologie in die klaskamer beskou word. Ons glo dat tegnologie-integrasie leerders op verskeie maniere, beide kognitief en sosiaal, in die taalonderrigruimte kan stimuleer.

Strydom en Muller (2014:1) stel dit soos volg:

Digital literacy does not refer merely to the user's ability to use software or particular digital devices appropriately for learning, but also requires higher-level cognitive, sociological, psychological, emotional and, in the case of teachers, pedagogical skills in order to utilise digital environments effectively.

Die perspektief dat die verwysingsraamwerk van die 21ste-eeuse leerder drasties van die onderwyser s’n verskil, word ook in D1 se omskrywing geëggo: “[H]ulle raak gou verveeld met goed wat buite hulle verwysingsraamwerk val.” D1 beklemtoon dat alhoewel die 21ste-eeuse leerder in die inligtingsera grootword, die onderwyser nie moet aanneem dat die leerders oor ’n wye kennisraamwerk beskik nie. Volgens D1 “weet hulle eintlik baie min. Hulle weet baie van min en min van baie!” Daar word voorts deur D6 verduidelik dat alhoewel hierdie kenmerke van die hedendaagse leerder dalk onsekerheid by onderwysers kan kweek, dié eienskappe nie noodwendig sleg is nie, maar dat dit wel volgens D6 noodsaaklik is dat die onderwyser ’n goeie begrip het van die tipe leerder waarmee hulle werk. In hierdie verband sê sy: “Jy moet probeer om hierdie kenmerke positief te benut en te gebruik om tot hulle deur te dring.”

Die deelnemers se oortuiging dat dit belangrik is dat onderwysers ’n goeie begrip van die tipe leerder waarmee hulle werk se behoeftes het, word in die opvoedkundige literatuur bevestig (Anderson 2002:34; Watson 2008:15; Stosic 2015:111). Ons redeneer egter, in ooreenstemming met Saavedra en Opfer (2012:8), dat dit nie net die tipe leerder is wat die taalonderwyser noop om die klaskamer vir die 21ste-eeuse leerder te herontwerp nie; tesame met die oorwegings van hoe hierdie leerders leer, moet die onderwyser ingestel wees op wat hierdie leerders in die klaskamer behoort te leer. 21ste-eeuse onderrig en leer verg dus die bevordering van vaardighede wat noodsaaklik is vir die toekoms.

’n Verdere argument wat deur D6 voorgehou word, is dat die 21ste-eeuse leerder se konstante blootstelling aan tegnologie ook as ’n uitdaging vir die onderwyser bestempel kan word, omdat leerders moontlik volgens D6

oorgestimuleer [mag] wees, wat beteken dat jy op ander vernuwende maniere tot hulle moet probeer deurdring. Ek dink mens sal moet aanpas en by hulle probeer bly, want op ’n stadium gaan gapings in kommunikasie begin ontstaan as jy nie in ag neem hoe dié leerders natuurlik kommunikeer nie. Dis moeilik! Dis ’n heeltemal ander kind en hulle dink op ’n ander manier.

Die waarneming dat leerders moontlik oorgestimuleer mag wees deur oormatige tegnologiegebruik word ook deur D7 geopper:

Ek dink ons is verward as ons dink dat leerders graag deur middel van tegnologie onderrig wil ontvang. Ek dink mens moet onderskei tussen kinders wat vaardig is in tegnologie, met ander woorde gebruik maak van toepassings soos Facebook, Instagram, Snapchat as sosiale middels, en leerders wat graag tegnologie in die klaskamer vir akademiese doeleindes wil hê.

Die argument van D7 sluit aan by Alch (2000:4) se waarneming dat die 21ste-eeuse leerder “dikwels tegnologie gebruik om hulle behoefte aan samewerking, interafhanklikheid en sosiale-netwerkgeleenthede te bevredig”.

D5 beaam dié standpunt en redeneer dat leerders al aan hierdie onderwyserdeelnemer genoem het dat hulle verkies om volgens tradisionele maniere te leer. “Hulle hou van tegnologie en hulle gebruik dit, maar baie keer is dit oëverblindery. Hulle kom gou agter as dit buzzes and bells is en die lesse nie baie inhoud behels nie. Hulle verkies interaksie met die onderwyser en neem ernstig notas.” Volgens D5 het verskeie leerders al gesê: “Don’t worry about technology, you don’t have to use PowerPoint because it’s an in thing. We prefer engaging in class with you and learning in a traditional way.”

Hierdie stelling word ook bevestig in die opmerking van fogusgroepdeelnemer 1 (voorts FD1) wat met die groep gedeel het dat dit ’n persoonlike ontnugtering was toe hierdie betrokke deelnemer ’n inisiatief geloods het om aan leerders die geleentheid te bied om hulle handboeke elektronies te koop en deur middel van tablette en skootrekenaars in die klaskamer te werk. Volgens FD1 “het die leerders uiteindelik verkies om in hulle boeke te skryf en het die inisiatief toe nie posgevat nie”. FD1 voer aan dat finansiële redes moontlik ’n oorweging kon wees vir die teësinnige leerder- en ouerantwoorde, maar sê dan ook die volgende: “Ek dink nie dis net dit nie. Ek kry die idee dat dit dalk nie natuurlik voel vir die leerders nie.”

Daar kan egter ook in hierdie verband geredeneer word dat leerders die gebruik van tegnologie in die klaskamer bevraagteken of weerstand bied in gevalle waar die eienskappe en potensiële gebruike van tegnologiese instrumente nie sorgvuldig deur die onderwyser opgeweeg word nie. Bruce (2007:17) is ook van dieselfde mening wanneer hy verduidelik dat die blote gebruik van rekenaars of koppeling aan die netwerk nie verseker dat onderrig meer doeltreffend is, of dat leerders outomaties goed voorbereid sal wees om in die 21ste eeu te leef en te werk nie. Die fokus moet derhalwe op betekenisvolle tegnologiegebruik wees wat 21ste-eeuse vaardighede ondersteun.

Die waarneming deur D5 dat leerders krities reageer wanneer tegnologie-integrasie volgens die onderwyser bloot “buzzes and bells” is, bevestig die verantwoordelikheid van die onderwyser om die gebruik van tegnologie in die taalklas strategies te beplan en met 21ste-eeuse vaardighede, soos probleemoplossing, samewerking, en die konstruering van eie kennis, te belyn. Om die onderwyser hierin te ondersteun, verwys ons weer na moontlikhede wat die SAMR-model bied om die gebruik van tegnologie in onderrig en leer te kan beïnvloed. Puentedura (2015) se SAMR-model, wat ontwerp is om ’n hoë vlak van tegnologiegebruik aan te moedig, kan as ’n spektrum vir tegnologie-integrasie beskou word. Die afkorting SAMR staan vir Substitution (Vervanging), Augmentation (Toepassing/Verandering), Modification (Verbetering) en Redefinition (Herdefiniëring). Volgens Van der Merwe en Horn (2018:31) kan die sukses van die SAMR-model toegeskryf word aan die feit dat voldoende tegnologiese eienskappe aangewend word om maksimum gebruikersbetrokkenheid in die proses te verseker. Die bevinding wat ons in die lig van hierdie argumente en op grond van die onderwyserdeelnemers se perspektiewe wil tuisbring, is dat die wyse waarop tegnologie in die taalonderrigruimte geïntegreer word, volgens ’n raamwerk en ’n visie vir 21ste-eeuse leer moet geskied en nie op ’n lukrake, “ter wille van”-benadering aangewend moet word nie.

4.2 Onderrig-leerbehoeftes volgens die 21ste-eeuse leerder

Die onderwyserdeelnemers se perspektiewe aangaande die voorkeur onderrig- en leerbenaderings van die 21ste-eeuse leerder is in hierdie studie statisties teenoor die leerderperspektiewe met betrekking tot tegnologie-integrasie in die taalklas opgeweeg. Statistiek is verkry op grond van die leerdervraelyste wat die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap (Universiteit Stellenbosch) visueel voorgestel het. Ons het die grafiese voorstellings gebruik om die onderwyserdeelnemers se antwoorde uit die semigestruktureerde onderhoude met die leerderantwoorde te vergelyk.

Leerders wat deur die betrokke onderwyserdeelnemers onderrig word, bevestig gedeeltelik die onderwysers se vermoede dat nie alle leerders noodwendig tegnologiegesteunde onderrigbenaderings verkies nie, aangesien 69% van die deelnemende leerders aandui dat hulle graag die gebruik van elektroniese toestelle in die klaskamer sal verwelkom. Daar is dus steeds 31% van leerders wat tradisionele onderrig- en leermetodes, soos die gebruik van handboeke, pen en papier binne die taalonderrigruimte verkies. Toe leerders gevra is of hulle glo dat die gebruik van tegnologie meer voordelig is as lesaanbiedings wat op tradisionele metodes in die taalklas steun, het 62% met dié stelling saamgestem. Op die stelling “Om te leer met tegnologie in die taalklas is my voorkeurleerstyl” (Figuur 1) het 55% van leerders ’n positiewe perspektief oor tegnologie-integrasie gehad.

Figuur 1. Leerderantwoorde: “Om te leer met tegnologie in die taalklas is my voorkeurleerstyl.”

Alhoewel 55% van die leerders aangedui het dat hulle verkies om deur middel van tegnologiegesteunde metodes te leer (stem saam + stem volkome saam), is die resultaat nie so beduidend positief dat enige onderwyserbekommernisse oor leerders se entoesiasme aangaande tegnologiegedrewe onderrig- en leerpraktyke as ongeldig verklaar kan word nie. Dit is met hierdie statistieke in ag genome dat ons ag slaan op die argument wat deur die onderwyserdeelnemers geopper is, naamlik dat ’n onderskeid getref moet word tussen leerders wat opgewonde is oor die gebruik van tegnologie vir sosiale doeleindes en leerders ten gunste van die gebruik van tegnologie om leerprosesse te ondersteun.

4.3 Is tegnologie die antwoord vir die 21ste-eeuse klaskamer?

4.3.1 Wat is taalonderwysers se veronderstelling oor die verband tussen tegnologie-integrasie en die onderrig- en leerbehoeftes van die 21ste-eeuse leerder?

Tydens die onderhoude met die deelnemende taalonderwysers, het ons vir die deelnemers gevra of hulle voel dat tegnologie-integrasie as onderrig- en leerbenadering ’n moontlike oplossing bied om die onderrig- en leerbehoeftes van die 21ste-eeuse leerder in die klaskamer aan te spreek. Hieruit het uiteenlopende perspektiewe uit die deelnemers se antwoorde geblyk.

Volgens D6

bly die uiteinde dieselfde; ons wil hulle iets leer, maar hoe om daardie boodskappe oor te dra, is die debat. Ek dink ons kurrikulum het ook daarby begin aanpas, veral die taalkurrikulum. Ons wil hê dat hulle effektief moet kommunikeer, maar [is] die wyse waarop mens daardie take aanbied/die tipe take wat mens gee van toepassing op hulle lewens of kan die onderwyser dit moderniseer? Is dit byvoorbeeld nog nodig om ’n leerder te leer hoe om ’n vriendskaplike brief te skryf? Is dit nie eerder belangrik om hulle te leer hoe om e-recruitment of ’n aanlyn CV op te stel nie? Of hoe om ’n blog post te pos – iets wat meer op hulle van toepassing is. Iets wat in lyn is met hulle toekoms of die toekomstige besigheidswêreld. Mens moet krities bevraagteken of die werk wat ons aanbied pas by hulle ervaringswêreld. Gaan hulle nog briewe pos? Weet hulle dis waarom ons die adres bo-aan die brief skryf?

Terwyl D6 sterk redeneer dat vernuwing ten opsigte van outentieke take wat die ervaringswêreld van leerders in ag neem, ’n noodsaaklikheid geword het, bied D7 die volgende teenargument wanneer hy sê:

Aan die ander kant, maak ons nie dan die leerders antisosiaal groot nie? ’n Ervaringswêreld waar hulle net gemaklik is voor ’n skerm en net voor ’n skerm selfvertroue kan hê. Is dit goed vir die kinders om nog by die skool ook skermtyd te hê? Ons probeer dan juis kinders wegkry van skermtyd. Die ander kwessie is of ouers werklik verstaan dat sekere take/skoolwerk nou elektronies/aanlyn plaasvind. Ouers wat agterdogtig raak as kinders soveel ure op die internet of voor die skerm deurbring, kan die leerder se werk beïnvloed. Dus moet die hele gemeenskap eintlik inkoop by tegnologiegebruik as mens dit wil implementeer.

Vier deelnemers (D1, 2, 3 en 8) deel egter hulle waarnemings dat die gebruik van tegnologie vir die leerders opwindend is en derhalwe ’n groter leerderbetrokkenheid aanwakker. Met verwysing hierna sê D2:

Ek kom agter as ek iets op die skerm sit en dit met hulle deurgaan, is dit asof hulle dit werklik inneem. As mens net vir hulle lees wat op ’n bladsy staan, luister die helfte van hulle nie eers nie, maar as daar ’n skerm is, dan kyk almal.

D1 is eensgesind met D2 wat waarneem dat die leerders dikwels aan die les onttrek wanneer dieselfde tradisionele metodes herhaal word. D1 erken dat ’n té groot steun op tradisionele metodes van onderrig selfs vir haar as opvoeder die opwinding uit lesse begin haal het: “As ek as onderwyser verveeld geraak het, dan kan ek net dink hoe die leerders moes voel!”

Deelnemer 5 is egter skepties oor juis hierdie sogenaamde opwinding wat met die gebruik van tegnologie in die klaskamer gepaard gaan. Hierdie respondent is van mening dat baie van wat leerders op sosiale media ervaar, bloot vermaak is. In hierdie verband sê die deelnemer: “Kan hulle dalk daardie selfde gedagte hê in die klas? ‘Is this just entertainment? Or are we learning something?’” Die argument word verder deur D6 ondersteun dat indien leerders “juis in soveel fasette van hulle lewens met tegnologie te doen het, dit hulle dalk glad nie op ’n akademiese wyse aktief by die les betrek nie.”

Met verwysing na D5 en D6 se opmerkings, is dit egter belangrik vir ons om uit te lig dat hierdie stellings verwys na lesse waar tegnologiegebruik op die laagste vlak van die SAMR-model, naamlik vervanging, in die taalklas geïmplementeer word. Die metodes hier ter sprake verwys na ’n MS PowerPoint-aanbieding waar die inhoud van die skerm afgelees word, eerder as van die skryfbord of die stel uitgedrukte notas. Daar word in hierdie konteks verwys na onderwysers wat poog om leerders visueel te stimuleer deur eerder ’n video oor die lesinhoud te vertoon as om self met die leerders interaktief te verkeer.

Dit is waarom onderwysers skepties voel oor die daadwerklike leerderbetrokkenheid met betrekking tot tegnologie-integrasie wat as blote vervanging van soortgelyke tradisionele metodes dien. D7 verwoord hierdie onsekerheid soos volg:

Daar is vir my ’n loophole daarin … Jy kan maklik skuil agter tegnologie. Jy kan of ’n uitstekende les voorberei, waarby die kinders regtig gaan baat terwyl hulle outonoom daaraan werk, of jy kan net sê: “Doen daardie vyf aktiwiteite op daardie Drive.” Dit kan wel interaktiewe aktiwiteite wees, maar jy moet dit steeds nagaan en in voeling bly met waar jou leerders is en hoe hulle die vrae beantwoord. So, as jy tegnologie regtig effektief wil aanwend, word jou werk verdubbel.

Die argument van D7 word deur D5 ondersteun, wat bekommerd is dat die aanmoediging van tegnologiegebruik in die klaskamer (veral met verwysing na aanbiedings wat aanlyn afgelaai word en videomateriaal wat die lesinhoud aan die leerders oordra), sekere risikofaktore inhou. D5 identifiseer die gevaar dat noodsaaklike menslike interaksie met die leerders verlore gaan, dat aanlyn bronmateriaal in die klaskamers gebruik word wat deurspek is met foute en dat die persoonlike verhouding tussen die leerder en onderwyser, wat so krities is gedurende die leerder se vormingsjare, onder die invloed van tegnologie-integrasie sal kwyn. In hierdie verband artikuleer D5 dit soos volg:

Jy kan nie tegnologie gebruik om jou verantwoordelikheid te ontduik nie. Dit is seker ’n vangnet vir nuwe onderwysers wat onseker voel, maar dan is onderwys nie meer ’n uitdaging nie. Jy hou jou kop skerp as onderwyser deur self ook voor te berei vir lesse en met die inhoud om te gaan … Dit raak ’n kommer as tegnologie daardie proses uitskakel.

4.3.2 Leerderperspektiewe aangaande ’n 21ste-eeuse onderrig- en leeromgewing

Die waarneming dat die gebruik van visuele stimulasie soos projeksies en videomateriaal positief tot die 21ste-eeuse leerder spreek, word sterk deur die betrokke onderwyserdeelnemers se leerders bevestig. ’n Hoë 90% van die leerders het aangedui dat die gebruik van tegnologiese beeldmateriaal in die klaskamer deur leerders verwelkom word.

Die noodsaaklikheid om die leerder aktief by die les te betrek en kognitief te stimuleer, soos reeds deur D5, D6 en D7 beklemtoon, word ook deur die leerders bevestig deurdat 86% aandui dat dit vir hulle uitdagend is om vir ’n volle periode aandag in die klas te gee wanneer hulle nie aktief by die les betrek word nie. ’n Oorweldigende 91% (Figuur 2) van die leerders wat aan die opname deelgeneem het, bevestig ook D5 se argument dat die persoonlike sosiale interaksie in die taalklas van onmeetbare waarde is (stem saam + stem volkome saam).

Figuur 2. Leerderantwoorde: “Ek beskou sosiale interaksie (groepswerk, klasgesprekke, ens.) as ’n noodsaaklike deel van my leerproses.”

Leerders wat sosiale interaksie in die taalonderrigomgewing hoog op prys stel, skakel positief met Dziuban e.a. (2005:3) se standpunt dat hierdie nuwe leerder dikwels stres ervaar wanneer hulle behoefte aan groepswerk en sosiale kennisbouende leersituasies deur ’n skoolomgewing onderdruk word wat grootliks op individuele prestasie fokus.

Die leerderantwoorde in hierdie verband sluit aan by McGlynn (2005:16) wat die standpunt huldig dat 21ste-eeuse onderrig vereis dat onderwysers hulle rolle herdefinieer om leerders sodoende meer aktief by die onderrig- en leerproses te betrek. Onderwysers moet volgens McGlynn (2005:16) leerders by samewerkende leeroefeninge betrek en die onus moet uiteindelik op die leerders wees om hulle eie leerstrategieë te ontleed ten einde hulle in staat te stel om medebesluitnemers in die opvoedkundige proses te wees.

Met die bogenoemde in gedagte, is die leerders se hoë agting vir sosiale interaksie egter glad nie ’n aanduiding dat die integrasie van tegnologie in die klaskamer hierdie waardevolle persoonlike klaskamerverhoudings sal ontmoedig nie. Die sinvolle gebruik van tegnologiegesteunde onderrigleerbenaderings ontsluit inteendeel die moontlikheid om selfs interaktiewe verhoudings buite die grense van die klaskamer te bou.

 

5. Aanbevelings

5.1 Erkenning van onderwyserperspektiewe

Ons is van mening dat die klaskamer die ideale ruimte is om, soos wat onderwysers nuwe praktyke aanneem en krities oor hulle klaskamerpraktyke en -ervarings reflekteer, bestendige opvoedkundige veranderinge teweeg te bring. Met hierdie standpunt in ag genome, redeneer ons voorts dat opvoedkundige veranderinge, soos die gebruik van tegnologie in die taalonderrigruimte, steeds deur skoolbestuurspanne en -beheerliggame op grond van die gereedheid van onderwysers om vernuwende praktyke toe te pas, aangepas en gestruktureer moet word.

Daar word aanbeveel dat interne (skoolverbonde) beleidshervormers, soos Inligtingstegnologie-koördineerders, tegnologie-integrasiekomitees en portefeuljebestuurders wat op skoolbeheerliggame dien, nie die gebruik van tegnologie as ’n nie-onderhandelbare onderrig- en leerbenadering op taalopvoeders afdwing nie. Daar word eerder aanbeveel dat onderwysers self op die voorpunt van die aanvanklike beplannings- en deurlopende evalueringsfase behoort te wees. Gedurende die insameling van data het ons waargeneem dat sommige onderwysers ervaar dat nuwe beleide en beduidende opvoedkundige veranderinge ten opsigte van klaskamerpraktyke dikwels deur eksterne (nasionale en provinsiale) en interne (skoolverbonde) beleidshervormers sonder die insae of betrokkenheid van die onderwyser wat daardie beleid op ’n praktiese wyse in die klaskamer moet uitvoer, ingestel word. Die uitsluiting van die onderwyser gedurende die beplanningsproses van die aanneming van tegnologiegesteunde onderrigleerbenaderings kan onsekerheid oor die potensiaal van die praktyk veroorsaak. Ons is daarom van mening dat ’n mate van weerstandigheid teen beleidsintegrasie, ingeperk kan word deur alle opvoeders as rolspelers by die aanvanklike beplanningsfase van tegnologie-integrasie te betrek.

Op grond van ons bevinding dat die uiteindelike sinvolle implementering van vernuwende onderrig- en leerpraktyke grootliks met onderwysers se perspektiewe verband hou, word daar gevolglik aanbeveel dat onderwysers by die proses om ’n aksieplan vir tegnologie-integrasie te ontwikkel deur middel van ’n onder-na-bo benadering tot ontwerp betrek word.

In ’n onder-na-bo benadering word die individuele basiselemente van die stelsel eerstens breedvoerig uiteengesit. Hierdie elemente word dan aan mekaar gekoppel om groter substelsels te vorm, wat dan weer op verskillende vlakke gekoppel word totdat ’n volledige topvlakstelsel gevorm word. Ons beklemtoon ook die betrokkenheid van onderwysers, leerders en ouergemeenskappe by die ontwikkeling van hierdie stelsels.

Hierdie benadering blyk die geskikste wyse te wees om positiewe perspektiewe vir hierdie vernuwende onderrig- en leerbenadering by onderwysers te kweek. Die inisiatiewe wat dan uit klaskamers voortspruit, kan dan daarna deur die interne en eksterne opvoedkundige beleidshervormers oorweeg word en daarna in beleide ingesluit word.

Met hierdie bevindinge in ag genome beveel ons aan dat eksterne en interne opvoedkundige hervormers onderwysers se perspektiewe aangaande tegnologie-integrasie as onderrigleerbenadering vir die 21ste-eeuse leerder met groter erns benader gedurende die beplannings- en implementeringsfase van vernuwende beleidsraamwerke. Dit is na aanleiding van hierdie studie ons oortuiging dat ’n verswakte beleidsintegrasie in die klaskamer kan plaasvind indien onderwysers se moontlike bydraes geïgnoreer word. Onderwysers en leerders se perspektiewe moet dus as ’n groter faktor erken word om die suksesvolle implementering van nuwe beleide te verseker.

Vervolgens word ’n voorstel omskryf vir hoe onderwysers tydens die beplanning van tegnologie-integrasie in die klaskamer betrek kan word.

5.2 ’n Aanbeveling vir ’n onder-na-bo-, eerder as ‘n bo-na-onder, benadering

Ons wil hiermee beklemtoon dat samewerkende verhoudings tussen onderwysers, leerders, ouergemeenskappe en gemagtigde beleidshervormers noodsaaklik is om te verseker dat alle betrokkenes eienaarskap van die beleide neem. Daar word dus aanbeveel dat onderwysers ten opsigte van die onderrig- en leerpraktyke van tegnologie-integrasie bemagtig word om dus self ook ’n leidende rol te vertolk en die vryheid het om innoverende besluite ten opsigte van die bevordering van tegnologie-integrasie binne die skoolstruktuur te neem.

’n Verdere aanbeveling is dat komitees vir tegnologie-integrasie binne skoolkluster- en/of distriksverband gestig word. Ervare onderwysers kan, in samewerking met kundiges op die gebied van 21ste-eeuse onderrigpraktyke en onderwysleiers, beleidsintegrasie beplan en deurlopend die vordering daarvan monitor. Hierdie professionele leergemeenskappe, wat buite die onmiddellike grense van ’n spesifieke skoolkonteks strek, kan ’n positiewe bydrae ten opsigte van meer sinvolle tegnologie-integrasie in die klaskamer lewer.

Deur ’n skoolkultuur van bemagtiging te skep, waar onderwysers as rolspelers in die beleidsintegrasie van tegnologiegebruik erken word, kan ’n gevoel van professionele groei en persoonlike prestasie ontwikkel word. Alhoewel die einddoel ’n hoër gehalte onderwyspraktyk met betrekking tot tegnologie-integrasie in die klaskamerruimte is, redeneer ons dat die bemagtiging van onderwysers in hierdie verband ook ander verreikende voordele sal inhou. Die onderwysers se aktiewe betrokkenheid by hierdie leergemeenskappe kan unieke geleenthede aan onderwysers bied om goeie onderrig- en leerstrategieë met mekaar te deel en ook self meer van hul vakdissiplines te leer deurdat inhoudskennis versterk word.

Dit is ons uitgangspunt dat die prioritisering en bevordering van samewerkende verhoudings tussen interne en eksterne beleidshervormers, onderwysleiers, praktisyns, leerders en ouerverteenwoordigers beter volhoubaarheid en sinvolle integrasiebeleide vir tegnologiegebruik sal oplewer. Die vennootskap tussen klaskamerpraktisyns en kundiges op die gebied van tegnologie-integrasie sal waarskynlik ook tot gevolg kan hê dat vernuwende onderrig- en leerbenaderings nouer met die kurrikulum skakel en dat die beleidsintegrasieplanne vir tegnologiegebruik ook meer versoenbaar sal wees met huidige klaskamerkontekste.

 

6. Ter afsluiting

Ons navorsing bied gekontekstualiseerde insae aangaande taalonderwysers en leerders se perspektiewe oor die gebruik van tegnologie in die klaskamer. Die studie lewer ’n bydrae tot opvoedkundige navorsing deur die wisselwerking tussen onderwyserperspektiewe en klaskamerpraktyke te beklemtoon en verder ook die onderwysers en leerders se perspektiewe as belangrike oorwegings vir suksesvolle opvoedkundige hervormingsbewegings uitlig. Die studie lewer ook ’n belangrike bydrae ten opsigte van die beligting van die veld oor die neem van eienaarskap van tegnologiegedrewe opvoedkundige praktyke in die plaaslike Suid-Afrikaanse konteks.

Hierdie studie bied waardevolle insigte aangaande onderwysers se perspektiewe, leerderervarings en kontekstuele faktore op grond van die refleksiegeleenthede vir onderwysers en leerders oor vernuwende onderrig- en leerpraktyke. Die insigte wat uit hierdie studie verkry is, kan gebruik word om krities na te dink oor die gebruik van tegnologie binne die skoolkonteks en hoe vernuwende onderrig- en leerpraktyke tot die behoeftes van die 21ste-eeuse leerder binne die taalonderrigruimte spreek.

 

Bibliografie

Ah-Nam, L. en K. Osman. 2017. Developing 21st century skills through a constructivist-constructionist learning environment. K-12 STEM Education, 3(2):205–16.

Alch, M.L. 2000. Get ready for a new type of worker in the workplace: The net generation. SuperVision, 61(4):3–7.

Alvermann, D.E (red.). 2007. Adolescents and literacies in a digital world. New York: Peter Lang.

Anderson, G. 1990. Fundamentals of educational research. Londen: The Falmer Press.

Anderson, N. 2002. New media and new literacy: The horizon has become the landscape – new media are here. http://www.medialit.org/reading-room/new-media-and-new-media-literacy (1 Desember 2019 geraadpleeg).

Bailey, J., S. Ellis, C. Schneider en T. Vander Ark. 2013. Blended learning implementation guide. https://library.educause.edu/resources/2013/2/blended-learning-implementation-guide (4 September 2017 geraadpleeg).

Baxter, P. en S. Jack. 2008. Qualitative case study methodology: Study design and implementation for novice researchers. The Qualitative Report, 13(4):544‒59.

Bolstad, R., J. Gilbert, S. McDowall, A. Bull, S. Boyd en R. Hipkins. 2012. Supporting future-oriented learning & teaching — a New Zealand perspective. Verslag aan die Minister van Onderwys, Nieu-Seeland. https://www.educationcounts.govt.nz/__data/assets/pdf_file/0003/109317/994_Future-oriented-07062012.pdf (1 Februarie 2017 geraadpleeg).

Bruce, B.C. 2007. Diversity and critical social engagement: How changing technologies enable new modes of literacy in changing circumstances. In Alvermann (red.) 2007.

Burns, N. en S.K. Grove. 2001. The practice of nursing research: Conduct, critique and utilization. Philadelphia: Saunders.

Bygstad, B. en B.E. Munkvold. 2011. Exploring the role of informants in interpretive case study research in IS. Journal of Information Technology, 26:32‒45.

Camilleri, M. en A. Camilleri. 2017. The technology acceptance of mobile applications in education. Bath, 13th International Conference on Mobile Learning.

Choo, S., D. Sawch, A. Willanueva en R. Vinz (reds.). 2017. Towards twenty-first century education: Success factors, challenges, and the renewal of Finnish Education. https://www.researchgate.net/publication/309342838_Towards_Twenty-First_Century_Education_Success_Factors_Challenges_and_the_Renewal_of_Finnish_Education (3 Junie 2019 geraadpleeg).

Clark, C.M. en P.L. Peterson. 1986. Teachers’ thought processes. In Wittrock (red.) 1986.

Cochran-Smith, M. en S.L. Lytle. 2009. Inquiry as stance: Practitioner research for the next generation. New York: Teachers College Press.

Creswell, J.W. 2003. Research design: Qualitative, quantitative, and mixed methods approaches. 2de uitgawe. Londen, Thousand Oaks, New Delhi: Sage Publications.

Creswell, J.W. 2012. Educational Research: Planning, conducting, and evaluating quantitative and qualitative research. 4de uitgawe. New York: Pearson.

Darling-Hammond, L. 2006. Constructing 21st century teacher education. Journal of Teacher Education, 57(10):1–15.

Denscombe, M. 2007. The good research guide: For small-scale social research projects. 3de uitgawe. Maidenhead: Open University Press.

Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO). 2011. Minimum requirements for teacher education qualifications. http://www.dhet.gov.za/Teacher%20Education/Policy%20on%20Minimum%20Requirements%20for%20Teacher%20Education%20Qualifications%20(2011),%2022%20July%202011.pdf (20 Mei 2018 geraadpleeg).

De Vos, A.S. 1998. Research at grassroots: A primer for the caring profession. Pretoria: Van Schaik.

Dziuban, C., P. Moskal en J. Hartman. 2005. Higher education, blended learning and the generations: Knowledge is power-no more. https://desarrollodocente.uc.cl/images/Innovaci%C3%B3n/Flipped/Knowledge_is_power_no_more.pdf (1 Februarie 2020 geraadpleeg).

Ertmer, P.A. 2005. Teacher pedagogical beliefs: The final frontier in our quest for technology integration. Educational Technology Research and Development, 53(4):25‒39.

Fives, H. en M.M Buehl. 2012. Spring cleaning for the “messy” construct of teachers’ beliefs: What are they? Which have been examined? What can they tell us? In Harris, Graham en Urdan (reds.) 2012.

Garrison, D.R. en H. Kanuka. 2004. Blended learning: Uncovering its transformative power in higher education. The Internet and Higher Education, 7(1):95‒105.

Grand-Clement, S. 2017. Digital learning: Education and skills in the digital age. Santa Monica, Kalifornië: Rand Corporation.

Grouws, D. (red.). 1992. Handbook of research on mathematics teaching and learning. New York: Macmillan.

Haelermans, C. 2017. Digital tools in education on usage, effects, and the role of the teacher. 1ste uitgawe. Stockholm: SNS Förlag.

Harris, K.R., S. Graham en T. Urdan (reds.). 2012. APA Educational Psychology Handbook. 2de uitgawe. Washington, DC: American Psychological Association.

Healey, D., E. Hanson-Smith, P. Hubbard, S. Ioannou-Georgiou, G. Kessler en P. Ware. 2011. TESOL technology standards: Description, implementation, integration. Alexandria, VA: TESOL International.

Henning, E., W. Van Rensburg en B. Smit. 2004. Finding your way in qualitative research. Pretoria: Van Schaik.

Jan, H. 2017. Teacher of 21st century: Characteristics and development. https://www.researchgate.net/publication/318468323 (4 Junie 2019 geraadpleeg).

Joubert, I., C. Hartell en K. Lombard. 2016. Navorsing: ’n Gids vir die beginnernavorser. Pretoria: Van Schaik.

Kagan, D.M. 1992. Implications of research on teacher belief. Educational Psychologist, 27(1):65‒90.

Kallio, H, A. Pietila, M. Johnson en M. Kangasniemi. 2016. Systematic methodological review: developing a framework for a qualitative semi­structured interview guide. http://usir.salford.ac.uk/id/eprint/39197/1/jan13031%20Martin%20Johnson%20June%202016.pdf (30 Januarie 2020 geraadpleeg).

Kalpana, T. 2014. A constructivist perspective on teaching and learning: A conceptual framework. International Research Journal of Social Sciences, 3(1):27–9.

Kim, C., M.K. Kim, C. Lee, M. Spector en K. DeMeester. 2013. Teacher beliefs and technology integration. Teaching and Teacher Education, 29:76‒85.

Kukulska-Hulme, A. 2010. Learning cultures on the move: Where are we heading? Journal of Educational Technology & Society, 13(4):4‒14.

—. 2012. Smart devices or people? A mobile learning quandary. International Journal of Learning and Media, 4(3–4):73–7.

Lavonen, J. en T. Korhonen. 2017. Towards twenty-first century education: Success factors, challenges, and the renewal of Finnish education. In Choo, Sawch, Willanueva en Vinz (reds.) 2017.

Lemke, C. 2003. enGauge 21st century skills: Literacy in the digital age. https://pict.sdsu.edu/engauge21st.pdf (31 Maart 2019 geraadpleeg).

Lising, L. en A. Elby. 2005. The impact of epistemology on learning: A case study from introductory physics. American Journal of Physics, 73(4):372‒82.

Luther, J. (red.). 2009. HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek. 1ste Uitgawe. Kaapstad: Pearson.

Maree, K. (red.). 2016. First steps in research. 2de uitgawe. Pretoria: Van Schaik.

McAlpine, L., A. Eriks-Brophy en M. Crago. 1996. Teaching beliefs in Mohawk classrooms: Issues of language and culture. Anthropology & Education Quarterly, 27:390‒413.

McGlynn, A.P. 2005. Teaching Millennials, our newest cultural cohort. Education Digest: Essential Readings Condensed for Quick Review, 71(4):12‒6.

Mitchell, E.S. 1986. Multiple triangulation: A methodology for nursing science. Advances in Nursing Science, 8(3):18‒26.

Murray, J.P. 2004. Nursing: The next generation. Nursing Education Perspectives, 25(3):106.

Nespor, J. 1987. The role of beliefs in the educational practice of teaching. Journal of Curriculum Studies, 19(4):317‒28.

Niederhauser, D.S. en T. Stoddart. 2001. Teachers' instructional perspectives and use of educational software. Teaching and Teacher Education, 17(1):15‒31

Nieuwenhuis J. 2016. Introducing qualitative research. In Maree (red.) 2016.

Olivier, J. 2016. Vervlegte interaksie: Implementering van ’n bring-jou-eie-toestel-benadering teenoor verskafde tabletrekenaars. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, 35(1):1–13.

Pajares, M.F. 1992. Teachers’ beliefs and educational research: Cleaning up a messy construct. Review of Educational Research, 62(3):307‒32.

Pedro, M. en M.F. van der Merwe. 2020. Taalonderwysers se perspektiewe aangaande vervlegte leer as onderrig- en leerbenadering vir die 21ste-eeuse leerder. https://www.litnet.co.za/taalonderwysers-se-perspektiewe-aangaande-vervlegte-leer-as-onderrig-en-leerbenadering-vir-die-21ste-eeuse-leerder/ (1 Februarie 2020 geraadpleeg).

Polit, D.F. en B.P. Hungler. 1996. Essentials of nursing research: Methods, appraisal and utilization. 4de uitgawe. Philadelphia: Lippincott.

Prawat, R.S. 1992. Teachers’ beliefs about teaching and learning: A constructivist perspective. American Journal of Education, 100(35):354‒95.

Prensky, M. 2001. Digital natives, digital immigrants. On the Horizon, 9(5):1‒6.

Puentedura, R. 2015. The SAMR model. http://hippasus.com/rrpweblog/archives/2015/10/SAMR_ABriefIntro.pdf (5 Februarie 2019 geraadpleeg).

Redecker, A.C., M. Leis, M. Leendertse, Y. Punie, G. Gijsbers, P. Kirschner, S. Stoyanov en B. Hoogveld. 2011. The future of learning: Preparing for change. Luxembourg: Publications Office of the European Union.

Roehl, A., S.L. Reddy en G.J. Shannon. 2013. The flipped classroom: An opportunity to engage millennial students through active learning. Journal of Family and Consumer Sciences, 105(2):44‒9.

Rule, P. en V.M. John. 2011. Your guide to case study research. 1ste uitgawe. Pretoria: Van Schaik.

Saavedra, A. en V.D. Opfer. 2012. Learning 21st century skills requires 21st century teaching. The Phi Delta Kappan, 94(2):8–18.

Solis, C.A. 2015. Beliefs about teaching and learning in university teachers: Revision of some studies. Propósitos y Representaciones, 3(2):227—60.

Steel, C. 2009. Reconciling university teacher beliefs to create learning designs for LMS environments. Australasian Journal of Educational Technology, 25(3):399—420.

Stosic, L. 2015. The importance of educational technology in teaching. International Journal of Cognitive Research in Science, Engineering and Education, 3(1):111–14.

Strydom, S. en A. Muller. 2014. Blending tech savvy into the mix, Stellenbosch. Mail & Guardian. http://academic.sun.ac.za/Health/Media_Review/2014/10Nov14/files/Blending.pdf (3 Julie 2019 geraadpleeg).

Taylor, P. en M. Medina. 2013. Educational research paradigms: From positivism to multiparadigmatic. Journal for Meaning-Centered Education, 1. DOI: 10.13140/2.1. 3542.0805 (29 Januarie 2020 geraadpleeg).

Taylor, R. en M.F. Van der Merwe. 2019. ’n Behoefte aan die integrering van tegnologie in die Afrikaans Huistaal-klaskamer om die ontwikkeling van 21ste-eeuse vaardighede te ondersteun: ’n gevallestudie, LitNet Akademies, 16(1):295–340. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2019/06/LitNet_Akademies_16-1_Taylor-VanDerMerwe_295-340.pdf (25 Julie 2019 geraadpleeg).

Thompson, A. 1992. Teachers’ beliefs and conceptions. In Grouws (red.) 1992.

Thurmond, V.A. 2001. The point of triangulation. Journal of Nursing Scholarship, 33(3):253‒58.

U.S. Department of Education. 2017. Reimagining the role of technology in education: 2017 National Education Technology Plan update. https://tech.ed.gov/files/2017/01/NETP17.pdf (3 Junie 2019 geraadpleeg).

Van der Merwe, M.F. en K. Horn. 2018. Mobile concepts in a mobile environment: Historical terms in LSP lexicography. Yesterday & Today, 19:17‒34.

Vandeyar, S. en R. Killen. 2006. Beliefs and attitudes about assessment of a sample of student teachers in South Africa. Africa Education Review, 3(1–2):30‒47.

Watson, J. 2008. Blending learning: The convergence of online and face-to-face education. Florida: NASCOL.

Wilen, W., M. Ishler, J. Hutchinson en R. Kindsvatter. 2000. Dynamics of effective teaching. 4de uitgawe. Addison Wesley Longman. Iowa: Des Moines.

Wittrock, M. (red.). 1986. Handbook of research on teaching. 3de uitgawe. New York: Macmillan.

Zhao, J. en Y. Jiang. 2010. Knowledge construction through discussion forum in a blended learning environment. https://link.springer.com/chapter/10.1007/978-3-642-14657-2_36 (4 Maart 2019 geraadpleeg).

 

BYLAAG A: LEERDERVRAELYS

Vak: ___________________________________________________________

Onderwyser: ____________________________________________________

Lees die vraag en omkring die antwoord wat jou gevoel/waarneming die beste beskryf.

1. Tegnologie word gereeld in my taalklas gebruik.

  Stem glad nie saam nie
  Stem nie saam nie
  Stem saam
  Stem volkome saam

2. Die gebruik van tegnologie in my taalklas is ondersteunend tot die oordrag van taalkennis.

  Stem glad nie saam nie
  Stem nie saam nie
  Stem saam
  Stem volkome saam

3. Die gebruik van tegnologie bevorder ’n interaktiewe klaskamer-omgewing.

  Stem glad nie saam nie
  Stem nie saam nie
  Stem saam
  Stem volkome saam

4. Die gebruik van tegnologie in die taalklas ondersteun my individuele leerbehoeftes (bv. leer teen my eie pas, oefeninge met verskillende   moeilikheidsgrade, addisionele bronne, ens.).

  Stem glad nie saam nie
  Stem nie saam nie
  Stem saam
  Stem volkome saam

5. Die gebruik van tegnologie in my taalklas is meestal beperk tot die gebruik van PowerPoint-aanbiedings.

  Stem glad nie saam nie
  Stem nie saam nie
  Stem saam
  Stem volkome saam

6. Die gebruik van tegnologie in my taalklas behels die gebruik van leertablette/rekenaartegnologie wat die aanbieding van nuwe tipe klasoefeninge/take toelaat.

  Stem glad nie saam nie
  Stem nie saam nie
  Stem saam
  Stem volkome saam

7. Tegnologie word in my taalklas gebruik om assesserings te voltooi.

  Stem glad nie saam nie
  Stem nie saam nie
  Stem saam
  Stem volkome saam

8. Tegnologie word op so ’n wyse in die taalklas gebruik dat die onderwyser nie meer die sentrale rol in die klaskamer vertolk nie, maar slegs die leerproses fasiliteer.

  Stem glad nie saam nie
  Stem nie saam nie
  Stem saam
  Stem volkome saam

9. Ek sal verkies om my selfoon vir leerdoeleindes in die taalklas te gebruik.

  Stem glad nie saam nie
  Stem nie saam nie
  Stem saam
  Stem volkome saam

10. Ek sal verkies om vrye toegang tot die internet tydens my taalklasse te ontvang?

  Stem glad nie saam nie
  Stem nie saam nie
  Stem saam
  Stem volkome saam

11. Die gebruik van tegnologie in die taalklas is meer voordelig vir leerders as slegs die gebruik van tradisionele onderrigmetodes (witbord, handboek, mondelingse verduidelikings, ens.).

  Stem glad nie saam nie
  Stem nie saam nie
  Stem saam
  Stem volkome saam

12. Ek beskou sosiale interaksie (groepswerk, klasgesprekke, ens.) as ’n noodsaaklike deel van my leerproses.

  Stem glad nie saam nie
  Stem nie saam nie
  Stem saam
  Stem volkome saam

13. Ek gebruik gereeld die internet as ’n hulpbron om my vakkennis te verbreed.

  Stem glad nie saam nie
  Stem nie saam nie
  Stem saam
  Stem volkome saam

14. Dit is vir my ’n uitdaging om vir ’n volle periode aandag in die klas te gee as ek nie aktief by die les betrek word nie.

  Stem glad nie saam nie
  Stem nie saam nie
  Stem saam
  Stem volkome saam

15. Die gebruik van videomateriaal in die taalklas spreek positief tot my    leerbehoeftes.

  Stem glad nie saam nie
  Stem nie saam nie
  Stem saam
  Stem volkome saam

16. Om te leer met tegnologie in die taalklas is my voorkeurleerstyl.

  Stem glad nie saam nie
  Stem nie saam nie
  Stem saam
  Stem volkome saam

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post ’n Kritiese blik op 21ste-eeuse onderrig en leer deur ’n onderwyser- en leerderbril appeared first on LitNet.

Gemeenskapsvertaalpraktyk: Gewone taal vir die hervertaling van ’n bankteks

$
0
0

Gemeenskapsvertaalpraktyk: Gewone taal vir die hervertaling van ’n bankteks

Adriaan Cupido en Harold Lesch, Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch

LitNet Akademies Jaargang 17(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming 

Suid-Afrika is ’n land waar Engels geredelik as voorkeurtaal of oorbruggingstaal in verskeie openbare domeine gebruik word. Een van daardie domeine is die bankwese. Hierdie toedrag van sake is egter problematies, veral as daar gekyk word na die statistieke rakende die taalverspreiding in Suid-Afrika.

Die Suid-Afrikaanse regering het verskeie wette, onder andere die Wet op Verbruikersbeskerming en die Nasionale Kredietwet, uitgevaardig. Hierdie wette stipuleer duidelik dat enige geskrewe kommunikasie, ingesluit in die bankwese, in gewone taal beskikbaar moet wees, en dat verbruikersdokumente toeganklik moet wees vir elke kliënt. Dit bepaal dus dat dokumentasie beskikbaar moet wees in taal wat die kliënt verstaan. As gevolg van die wyd uiteenlopende geletterdheidsvlakke in Suid-Afrika is dit ondoeltreffend om dokumente bloot direk in die verskillende tale te vertaal sonder om bykomende aanpassings aan te bring om te verseker dat die kliënte met wisselende geletterdheidsvlakke geakkommodeer word. Hierdie wetgewing het ten doel om te verseker dat openbare deelname en toegang tot inligting bevorder en aangemoedig word. Indien kliënte nie die dokumente wat hulle ontvang, verstaan nie, is hulle nie in ’n posisie om ingeligte besluite te kan neem of aktief in die samelewing te kan deelneem nie. 

Die doel van hierdie studie is om ’n hervertaling van ’n bestaande bankteks te doen en die beginsels van gewone taalgebruik en gemeenskapsvertaling toe te pas ten einde ’n vertaling te skep wat toeganklik en verstaanbaar is vir beide die ingeligte en oningeligte leser. Die hervertaling word dan ook geannoteer om die verskille tussen die oorspronklike Afrikaanse vertaling en hervertaling uit te lig, en te beklemtoon watter rol gewone taalgebruik en gemeenskapsvertaling speel in die beskikbaarstelling van verstaanbare dokumente in die openbare domein en die bevordering van openbare deelname en billike toegang tot inligting.

Trefwoorde: gemeenskapsvertaling; gewone taal; hervertaling; indirekte vertaling; tegniese teks

 

Abstract

Community translation. Plain language for the retranslation of a banking text

In South Africa, English is readily used as a bridging language in various public domains, including the banking sector. Various laws, including the Consumer Protection Act and the National Credit Act, clearly stipulate that any written communication, particularly in the banking sphere, must be made available in plain language, and that banking documentation should be accessible to every client. These legislation was instituted to ensure that the public make informed decisions and have access to information. If clients do not understand the documents they receive, they are not in a position to make informed decisions, or to participate actively in society. It also determines that documentation should be available in the language the client understands. However, it is not enough to translate these documents into the various languages without making additional adjustments to accommodate the various literacy levels of the diverse clientele. 

Since 2004 banks have had to ensure that all relevant documents are readily available in all official languages. Due to high levels of low literacy and complete illiteracy in South Africa, the bottom segment of banking clients still struggle to fully grasp the content of the available documents. This supports the view that in every linguistic community there are often linguistically marginalised individuals who do not have the ability to interpret information correctly. A large part of this bottom segment of banking clients informally make use of the bank security personnel to act as interpreters to bridge the communication gap because most of the individuals who fall within this segment have limited comprehension in English and bank documentation is not always accessible to them, according to Pienaar (2006a:135–6).

Mindful of the abovementioned background, this study attempts to investigate the effectiveness or lack thereof of texts translated into Afrikaans in the banking sector to determine whether a functionalist translation approach within this context would be able to make a contribution towards improved accessibility, efficiency and the realisation of effective communication within this sector. A retranslation of an appropriate Afrikaans banking text is investigated with the aim of improving reader comprehension and accessibility by applying aspects of plain language and community translation (Cornelius 2012 and Lesch 2012).

This study uses the functionalist model of translation as theoretical framework as starting point. This framework supports the notion that the context in which a text functions and meaning-making are inseparable from each other. Within this model the focus is primarily on the function of the target text, and the translator is mindful of the appropriateness of the translation. The emphasis is therefore no longer on the lexical and grammatical constructions, but rather on the function of the text within the communicative situation. According to Nord, the commissioner is the initiator of the translation process, as he provides the translation brief that contains the aim and skopos of the translation.

In contemporary South Africa language practitioners are experimenting with plain language to rewrite, among others, legislation to make the information available to the broader community. The rationale behind this is to simplify legislative texts that are usually characterised by incomprehensible technical jargon. According to Viljoen and Nienaber (2001:9) plain language is a recent initiative within the South African context and it is considered to be a means to effectively convey information to the marginalised language user. Plain language, according to Cornelius (2010:171), is a way of writing where certain interventions are made on a complex text to ensure that the text is on a par with the linguistic competency of the target text reader. The aim is therefore to simplify technical and complicated content to make it more meaningful for the target text reader.

Community translation practice also finds relevance in the South African context as translators have also been experimenting with this type of translation activity since the 1980s. The primary aim of this translation practice is to take into account and prioritise the linguistically uninformed target text reader during the translation process (Lesch, 2014:131–2). According to Lesch (1999:92), community translation is an approach where the needs of the reader are placed on the forefront and prioritised. This approach is exclusively reader-oriented. According to Taibi and Ozolins (2016:1) community translation is a genre that is still finding its niche. The types of texts that are usually translated by a community translator are informative and are typically created by various social agents, including private organisations, to ultimately ensure communication with all citizens to empower them and to guarantee their participation (Taibi and Ozolins 2016:7). Community translation is an attempt to rectify the imbalance that exists within the communicative situation and therefore this translation approach can be placed within the functionalist framework of translation theory. The context in which the reader finds himself plays a determining role in the choices the translator has to make during the translation process to realise efficient communication through the translated text.

Community translation and plain language are two complementary research fields, since there are many overlapping aspects between the two fields. Both language practices strive towards accessible, intelligible and efficient communication. In every communication situation one will find linguistically marginalised communities or role players that do not have the ability to interpret information successfully. Both community translation and plain language focus on simplicity and comprehensibility of information without depriving the document of any factual content. Lesch’s (2012:153–68) norms for community translation which were developed in 1999, speaks to the overlapping between these two research fields.

Against this background the objective of this article is to analyse a retranslation of a technical text beside the principles of plain language and community translation. The retranslation is analysed to determine the type of changes and adjustments the translator had to bring about during the retranslation process to provide a document that is clear, accessible and comprehensible. The goal of this study is therefore an attempt to make a contribution to providing a document that is readily available in plain language by using the principles of both research fields.

This study is divided in two parts: a theoretical and analysis section. The theoretical part entails a literary overview of relevant translation theories. The research of translation scholars such as, among others, Nord, Lesch and Taibi will play a dominant role. The Code of Banking Practice of South Africa as well as previous research will be explored to give a presentation of language use in the South African banking sector. This theoretical framework serves as a basis for the analysis of the retranslation.

This study confirms that Afrikaans technical language is characterised by difficult and complex sentence structures and other lexical and grammatical constructions which ultimately render technical documents incomprehensible and inaccessible. Legalese is exclusive as it brings about an imbalance between the author of a legal document and the layperson. Legalese is very challenging and places considerable strain on the cognitive processing by the intended reader, but principles of plain language and community translation can play a role in addressing this. In the process, the two disciplines are also brought closer to each other.

Keywords: community translation; indirect translation; plain language; retranslation; technical text

 

1. Inleiding 

Engels word geredelik aanvaar as die voorkeurbindingstaal ten spyte van die grondwetlike vereiste wat ’n veeltalige bedeling in ons land voorskryf. Hierdie praktyk is nie sonder probleme nie, aangesien ’n baie klein persentasie (8,3%) volgens Sensus 2016 (StatsSA 2016) van die bevolking moedertaalsprekers van Engels is. Die meerderheid van die bevolking wat Engels as bindingstaal (d.i. die taal wat sprekers bind en ’n gevoel van samehorigheid bied onder burgers) en voertaal (d.i. die taal wat afgespreek is vir kommunikasiedoeleindes tussen sprekers van verskillende agtergronde) gebruik, is tweede- of derdetaalsprekers wat oor wisselende taalvaardighede in Engels beskik. Die verwysing na “wisselende taalvaardighede” beteken dat diegene wat hulself in Engels uitdruk nie noodwendig almal ’n goeie beheersing daarvan en taalvermoë daarin het nie (Pretorius en Mampuru 2007:42; Bernhardt en Kamil 1995:17).

Gebrekkige taalbeheersing kan lei tot ondoeltreffende kommunikasie en die vraag is of dit enigsins moontlik is om hierdie diversiteit in een taal, Engels – wat deur ’n baie klein gedeelte van die bevolking selfs op tweedetaalvlak verstaan word – te akkommodeer. Om ondoeltreffende kommunikasie te voorkom en kulturele begrip en diversiteit te bevorder, behoort veeltalige taalpraktyk aan die orde van die dag te wees. Die sensusdata (StatsSA 2016) toon dat Engels dikwels as oorbruggingstaal (d.i. die taal wat gebruik word om die kommunikasiegaping te oorbrug tussen sprekers van verskillende tale) gebruik word. Hierdie praktyk is egter nie onproblematies is nie.

Hierdie taalwerklikheid kan ook in verband gebring word met die verskillende taalregisters (d.i. die woordeskat, grammatika, fonologie, ens. wat geskik is vir ’n bepaalde sosiale omgewing) van taalgebruikers. Beperkte geletterdheid en ongeletterdheid is ’n werklikheid en ’n groot uitdaging in die land. Dit hou implikasies in vir verskeie openbare sektore in die samelewing. Een daarvan is die Suid-Afrikaanse bankwese, wat toepaslike dokumentasie vir alle kliënte verstaanbaar en toeganklik moet maak. Indien slegs Engels as kommunikasiemedium gebruik word, kan dit ondoeltreffende kommunikasie tot gevolg hê. Die profiel van die verskillende kliënte met verskillende taalregisters en geletterdheidsvlakke noodsaak dat ’n doeltreffende vertaaldiens beskikbaar moet wees, omdat banke so ’n wye spektrum kliënte met verskillende taalbehoeftes bedien. Dit sou beteken dat ’n enkele vertaalde Afrikaanse teks vir die generiese1 Afrikaanse leser toeganklik behoort te wees. Die werklikheid is egter dat heelwat banktekste net vir lesers wat oor gesofistikeerde leesvaardighede beskik, bedoel word (bv. die sogenaamde welvaartskliënte). Van die groot banke in Suid-Afrika verdeel hulle tekste volgens lesersgehore in kategorieë. Die kliënte wat net gewone transaksierekeninge, soos spaarrekeninge het, word dus tegemoet gekom wat taalgebruik betref. Ander kliënte (soos welvaartskliënte) is gewoond aan “onaangepaste” banktekste, want hulle het wye blootstelling daaraan (Cornelius (2016).

 

2. Doel van die studie en die metodologie

Die doel van hierdie studie is om te ondersoek tot watter mate doelmatige kommunikasie in die bankwese, soos deur die wetgewing vereis word, nagestreef word en of bestaande vertaalde Afrikaanse dokumentasie soos die bepalings en voorwaardes vir ’n lopende rekening dit op ’n suksesvolle wyse weerspieël. Volgens Bank X2 se statistieke is hul lopende-rekening-opsie een van hul gewildste kliëntebasiskeuses. Die bepalings en voorwaardes vir lopende rekeninge is dus ’n dokument waarmee die meeste van hul kliënte gekonfronteer word wanneer hulle ’n transaksierekening by Bank X wil oopmaak. 

Die ondersoek behels eerstens ’n noukeurige ontleding van die Afrikaanse vertaalde “Bepalings en voorwaardes vir lopende rekeninge”-dokument. Hierdie ontleding sal aan die hand van die beginsels van gewone taalgebruik3 en gemeenskapsvertaling4 uitgevoer word. Tweedens sal die bestaande dokument hervertaal word in ooreenstemming met ’n noukeurige vertaalopdrag wat die ondersoeker self opstel. Die beginsels van beide gewone taalgebruik en gemeenskapsvertaling sal tydens die hervertaling ook aangewend word. Die hervertaling sal voorts ook geannoteer word om aan te dui presies watter aanpassings in die hervertaling aangebring is om die verstaanbaarheid en toeganklikheid van die dokument te verhoog. 

Die onderliggende doelwit is om die gebruik van gewone-taal- en gemeenskapsvertalingsbeginsels by mekaar uit te bring deur die herskepping van ’n Afrikaanse vertaalde teks in gewone taal. Hierdie studie onderskei hom van vorige studies (Pienaar en Slabbert 2002 en Van Schouwenberg 2004) deurdat dit juis na aanleiding van gewone taalgebruik en aspekte van gemeenskapsvertaling ’n bruikbare teks wil skep wat vir die leser meer bevatlik is.

Hierdie studie bestaan uit ’n teoretiese en ’n praktiese afdeling. Die teoretiese deel behels ’n verkenning van toepaslike vertaalteorieë wat die grondslag vorm vir die empiriese deel wat op die vertaling fokus en hoe dit in ’n bruikbare raamwerk geplaas word. Betreffende die empiriese deel is ’n hervertaling van ’n Bank X se bepalings en voorwaardes vir ’n lopende rekening gemaak. Die hervertaling word voorafgegaan deur die vertaalopdrag wat noukeurig en met spesifieke instruksies deur die ondersoekers opgestel word. ’n Ontleding van die hervertaling word gedoen en die moontlike verskille en ooreenkomste sal in besonderhede gekategoriseer word. Hierdie hervertaling sal ontleed word om die doeltreffendheid van die taalgebruik te ondersoek en vas te stel watter pogings aangewend is om die teks(te) volgens die doelteksleser/-mark aan te pas.

 

3. Literatuurstudie 

Hierdie studie neem die funksionalistiese model van vertaling as teoretiese uitgangspunt. Die funksionalistiese perspektief gaan van die veronderstelling uit dat die gebruikskonteks van taal enersyds, en betekenis andersyds, onlosmaaklik deel is van mekaar. Volgens Reiss en Vermeer (1984) en Vermeer (1986) (sien ook Lesch 2012:106) moet tekste nie as geïsoleerde taaluitinge beskou word nie, maar eerder as ’n onderdeel van die sosiokultuur waarbinne tekste tot stand kom. Daarom word vertaling as ’n aktiwiteit beskou waarin kultuur ’n onlosmaaklike rol speel. Nord (1992:40) voer aan dat vertaling dus nie meer as ’n linguistiese proses beskou moet word waartydens woorde en sinne van een taal na ’n ander oorgedra word, soos wat deur vroeëre teoretici soos Nida en Taber (1982) aangevoer is nie.

Binne hierdie funksionalistiese model is die fokus op die funksie van die doelteks, en die vertaler is meer bewus van en ingestel op die gepastheid van die vertaling binne ’n bepaalde konteks. Die klem is dus nie soseer op leksikale en grammatikale konstruksies nie, maar eerder op die funksie(s) van die teks binne die kommunikatiewe situasie. Volgens Nord (1992) is die opdraggewer die inisieerder van die vertaalproses. Die vertaalopdrag word ook deur die opdraggewer verskaf waarin die skopos en die doelwit vir die vertaling uiteengesit word.

Vermeer se skoposteorie en Nord se lojaliteitsbeginsel is relevant vir ’n studie oor vertaalde tekste in die bankwese, want die doelteksleser behoort tydens die vertaalproses in ag geneem te word. Die tegniese aard van “banktaal” asook die verstaanbaarheid daarvan behoort gebalanseer te word om ’n doeltreffende, verstaanbare en akkurate teks te lewer.

Vertaling is volgens die funksionalistiese benadering ’n kommunikatiewe handeling waar die funksie van die teks binne die betrokke konteks of kultuur voorrang geniet. Die doeltreffendheid van ’n vertaling word gemeet aan die mate waarin die funksie daarvan in die doelkultuur vervul word. Indien die doelteks se funksie binne die doelkultuur verwesenlik word, word die vertaalhandeling as doeltreffend of suksesvol beskou (Nord 2006b:43).

In hierdie benadering word daar op die doelteks klem gelê en op die funksie wat dit in die doeltaal behoort te vervul. Dit is om hierdie rede dat vertaling as ’n vooruitskouende handeling gereken word. Ouer vertaalteorieë, soos die linguistiese vertaalteorie, het die klem hoofsaaklik op die bronteks geplaas en daarom ’n meer terugskouende benadering tot vertaling ondersteun. Nord (1997:4–5) tref verder ’n onderskeid tussen dokumentêre vertalings en instrumentele vertalings, ’n onderskeid wat ook vir hierdie studie relevant is. Dokumentêre vertalings poog om die boodskap wat in die bronteks na vore kom, nét so in die doelteks oor te dra. Die bronteks word dus sonder enige spesiale aanpassings in ’n doelteks reproduseer. Dit is gewoonlik letterlike of woord-vir-woord-vertalings. Die doel van ’n dokumentêre vertaling is dus om die kommunikasie van die bronteksaanbod nét so in die doelteks te vervat en dokumenteer (Luttig 2003:56).

Daarteenoor is ’n instrumentele vertaling ’n vryer vertaalmetode. Die doel en funksie van die doelteks kan verskil van die doel van die bronteks. “Die doelteks kan ’n nuwe kommunikatiewe doelwit nastreef wat verskil van die oorspronklike doelwit in die bronteks” (Luttig 2003:57). Met ’n instrumentele vertaling word die bronteksfunksie herproduseer, die nodige aanpassings word in die doelteks aangebring, en die funksie/doelwit word aangepas by die doelkonteks om die teks in die doelkultuur te laat funksioneer. Enige funksionele aanpassing word in die funksionalistiese raamwerk aanvaar met dien verstande dat dit ’n funksionele teks as finale teks verseker (Luttig 2003:57). Hierdie tipe vertaling is relevant vir die doeleindes van die navorsing in hierdie studie, aangesien die fokus hier juis val op doelmatige kommunikasie en die verwesenliking daarvan in banktekste. 

Volgens Viljoen en Nienaber (2001:9) is gewone taalgebruik ’n onlangse inisiatief binne die Suid-Afrikaanse konteks. Gewone taal word as ’n hulpmiddel beskou om inligting doeltreffend oor te dra aan die gemarginaliseerde taalgebruiker. Gewone taalgebruik is volgens Cornelius (2010:171) ’n proses waar sekere ingrypings in ’n komplekse teks gemaak word. Hierdie ingrypings is noodsaaklik om te verseker dat die teks by die taalvaardigheidvlak van die doelteksleser pas. Die doel is dus om tegniese en ingewikkelde inhoud meer verstaanbaar én meer betekenisvol vir die doelteksleser te maak (sien weer eindnota 3). 

Ongeag die stemme wat opgaan vir gewone taalgebruik, is daar egter baie in die regs- en finansiële beroepe wat gekant is teen die gebruik van gewone taal. Hulle is van mening dat dit onmoontlik is om ’n regsboodskap oor te dra in gewone taal met dieselfde noukeurigheid as wat ’n kundige in die regsberoep sou doen (Hunt 2003). Alhoewel daar geargumenteer word dat wetgewing vir gewone taal wenslik is, is dit onmoontlik om dit te bereik, omdat gewone taal nie die slaggate kan uitskakel nie en weens die onvoorsiene interpretasie van ’n regsteks. In hierdie verband rapporteer Siebörger en Adendorff (2012) in hulle artikel oor die semantiese verskille wat kan voorkom tussen die oorspronklike teks en die teks in gewone taal.

In hedendaagse Suid-Afrika word daar ook geëksperimenteer om dokumente te herskryf en om die inligting aan die breër gemeenskap beskikbaar te stel. Sien onder meer Knight (1997), Stewart Smith (1999), Nienaber (2001), Feinauer (2003), Abrahams (2003), Carstens en Snyman (2003), Carstens (2004; 2007), Cornelius (2010; 2012; 2015; 2016) Siebörger en Adendorff (2012), Baitsewe, De Stadler en Du Plessis (2011), Esterhuyse (2013) en De Stadler (2017). Cornelius skryf: “The purpose of drafting legislative texts in plain language is to enhance democracy and the rule of law by making legislation accessible to the people whose lives it affects” (Cornelius 2010:171). Die rasionaal hieragter is om die moeilike tegniese taalgebruik en jargon wat tipies in regstekste gebruik word, in so ’n mate aan te pas dat die leek of al die belanghebbendes ook die dokumente kan verstaan. Ten spyte van laasgenoemde aanhaling is die begrip gewone taal nie onproblematies nie, aangesien daar grade van gewone taalgebruik is. Verder: Wie of wat bepaal gewone taal – is dit ’n regsperspektief of is dit die redelike persoon?

Volgens Taibi en Ozolins (2016:1) is gemeenskapsvertaling as praktyk en as navorsingsveld ’n relatief nuwe verskynsel. As praktyk is dit steeds besig om sy nis te vind. Die tekste wat deur die gemeenskapsvertaler vertaal word, is informatief en kan deur ’n verskeidenheid maatskaplike agente geskep word, insluitende private organisasies, ten einde kommunikasie met alle burgers te verseker en hulle te bemagtig en hul deelname te waarborg (Taibi en Ozolins 2016:7).

Binne die Suid-Afrikaanse konteks is die praktyk van gemeenskapsvertaling ook ter sake en is daar sedert die laat 1980’s met hierdie tipe vertaalaktiwiteit begin eksperimenteer om sekere tekortkominge in spesifieke taalgemeenskappe te akkommodeer. Dit is as ’n praktyk begin om die talig-oningeligte doelteksleser tydens die vertaalproses in ag te neem en te bevoordeel (Lesch 2014:131–2). Volgens Lesch (1999:92) is gemeenskapsvertaling ’n tipe vertaalbenadering waar die behoefte van die leser op die voorgrond geplaas word en voorrang geniet. Hierdie benadering is uitsluitlik lesergerig.

Indien die vertaalpraktyk daarna streef om taalhindernisse te oorkom soos wat gemeenskapsvertaling poog om te doen, maak Siegrühn (1992:33) die volgende stelling: “If we are seeking to remove linguistic barriers to understanding and participation and to provide protection against linguistic disenfranchisement, information has to be made truly accessible.” 

Gemeenskapsvertaling en gewone taalgebruik is aanvullende studievelde in dié sin dat hulle mekaar komplementeer en omdat daar so baie oorvleuelings tussen die twee is. Beide taalpraktyke streef na toeganklike, verstaanbare en doelmatige kommunikasie. Gemeenskapsvertaling is ’n pragmatiese vertaalaktiwiteit wat ten doel het om spesifieke taalbehoeftes aan te spreek (Taibi en Ozolins 2016:2). Hierdie taalbehoeftes spruit uit taalongelykhede, ongelyke geletterdheidsvlakke en verskeie taalvariasies binne een gemeenskap. 

Community translation is a means to an end, namely to equip the community with the necessary information and other means to develop skills for themselves. It is an attempt to balance the power relationship between the sender and the receiver by prioritizing the needs of the community. Effective empowering communication between the author and the reader via the translated text implies that the translator needs to be on the side of the powerless, that is the reader. (Taibi en Ozolins 2016:2)

Volgens Taibi en Ozolins (2016:7) is die tekste wat deur die gemeenskapsvertaler vertaal word, informatief en kan dit deur ’n verskeidenheid van maatskaplike agente geskep word, insluitende privaatorganisasies, ten einde kommunikasie met alle burgers te verseker, hulle te bemagtig en hul deelname te waarborg. Om deelname te waarborg moet die inligting wat oorgedra word, assimileerbaar wees vir die doelleser.

Die sukses van hierdie tipe vertaling hang grootliks af van die skopos wat deur die vertaler geïdentifiseer word, die tekstipe en die profiel van die doelleser (Taibi en Ozolins 2016:13–5). Burke (in Taibi en Ozolins 2016:16) stel dan voor dat: 

Translators should be prepared to adapt their translations in order to communicate optimally with the diverse [...] readership. In line with government and agency clients’ aims to achieve receptive understanding of their communications by a broadly targeted audience, translators can carefully select vocabulary to avoid common misunderstandings amongst the variety of [...] readers. (Taibi en Ozolins 2016:16)

Gemeenskapsvertaling geskied wanneer tekste wat vir die groter gemeenskap geskep is, vertaal of herskep word om doeltreffende geskrewe kommunikasie met die linguisties gemarginaliseerde segment van die gemeenskap te verseker, sodat almal die geleentheid het tot gelyke deelname in die samelewing, en sodat minderheidstaalgroepe ook toegang het tot inligting om hul sodoende te bemagtig (Taibi en Ozolins 2016:9). Hierdie vertaalpraktyk is ontwikkel hoofsaaklik om geskrewe kommunikasie tussen openbare diensverskaffers en die mense wat nie die dominante taal in die gemeenskap magtig is nie, te fasiliteer.

[I]t bridges the communicative gap between public services and those citizens or residents who do not speak the mainstream language […] This translation type facilitates information flow between mainstream/established community members and less powerful members [...] to improve their socio-economic position and communicate effectively. (Taibi en Ozolins 2016:11) 

Ook die nosie van vertaalvariasieteorie soos deur Zhang (2007:7–8) ontgin is, maak voorsiening vir gemeenskapsvertaling – ’n vertaalvariëteit wat sekere strategieë, waaronder byvoegings, weglatings, vereenvoudigings en herskrywing, moontlik maak. Hierdie strategieë word grootliks bepaal deur die behoeftes en verwagtinge van die teikengehoor. Die heersende sosiale faktore, soos opvoedingsagtergrond en die teikengehoor se vermoë om die vertaling te verstaan, speel dus ook ’n integrale rol in die vertaalproses.

Wat gewone taal betref, is die volgende definisie relevant wat geredelik aangehaal word (Cheek 2010:13):

Plain English [plain language] involves the use of plain, straightforward language [to] convey its meaning as clearly and simply as possible, without unnecessary pretension or embellishment. It is to be contrasted with convoluted, repetitive, and prolix language. The adoption of a plain English [language] style demands simply that a document be written in a style which readily conveys its message to its audience. However, plain English [language] is not concerned simply with the forms of language. Because its theme is communication, it calls for improvements in the organisation of the material and the method by which it is presented. It requires that material is [to be] presented in a sequence the audience would expect and helps them to absorb it. It also requires that a document’s design be as attractive as possible in order to help readers find their way through it.

Volgens Cheek (2010:5) is kommunikasie in gewone taal slegs wanneer dit die taalbehoeftes van die leser bevredig deur middel van gepaste (gewone) taalgebruik, gebruikersvriendelike dokumentontwerp en gemaklike rangskikking van die inhoud wat die verstaanbaarheid en kognitiewe verwerking vergemaklik.

Insgelyks poog gemeenskapsvertaling om inligting op ’n toeganklike en gepaste manier weer te gee. Die fundamentele beginsel van gemeenskapsvertaling is om gewone taal te gebruik – taal wat vir die generiese leser verstaanbaar is. Soos reeds gesê, is gemeenskapsvertaling en gewone taalgebruik dus komplementerende studievelde, omdat daar so baie oorvleuelings tussen die twee is. Herskrywing in gewone taal word volgens Cornelius (2010:171) as ’n vorm van intratalige vertaling beskou waartydens sekere ingrypings in ’n teks aangebring word om by die taalvermoë van die doelgehoor te pas. Beide taalpraktyke streef daarna om die inligting so eenvoudig en verstaanbaar moontlik oor te dra sonder om die dokument van enige feitelike inhoud te ontneem.

 

4. Vertaalopdrag

Dit is teen bogenoemde agtergrond dat die volgende vertaalopdrag vir die vertaling van die gegewe bankteks aan die vertaler gestel kan word:

  • Hervertaal die bepalings-en-voorwaardes-dokument5 vir ’n lopende rekening in gewone taal waartydens daar op die beginsels van gemeenskapsvertaling gesteun word.
  • Die hervertaling moet gerig wees op ’n teikenleser wat ’n moedertaalspreker van Afrikaans is wat minstens ’n graad 10-kwalifikasie het. Hierdie lesergroep is nie noodwendig talig sterk genoeg om die tegniese taalgebruik wat kenmerkend van formele bankooreenkomste is, te verstaan nie. Die hervertaling moet dus as hulpmiddel dien om hierdie kommunikasiegaping moontlik te oorbrug.
  • Die hervertaling moet elke klousule se hoofidee in gewone taal oordra.
  • Die uitleg, formaat, nommering en taalgebruik is van die aspekte wat in die hervertaling aangepas moet word sodat die dokument leservriendelik is en die leser moeitevry en sonder kruisverwysings deur die teks kan beweeg.
  • Die dokument is beide informatief en instruktief. Dit moet dus maklik en duidelik vir die kliënt/leser wees om vas te stel wat sy/haar verantwoordelikhede ingevolge die ooreenkoms is, en wat die bank se verpligtinge is.

 

5. Ontleding

Hierdie deel het die doel om ’n ontleding tussen die bronteks (BT), doelteks een (DT1) en doelteks twee (DT2) uit te voer. DT1 is ’n bestaande vertaling waarvoor die bank self verantwoordelik was, terwyl DT2 deur die artikelskrywers gedoen is. Hierdie afdeling word in hoofsaaklik twee dele verdeel. Die eerste deel is ’n bespreking van die sintaktiese en leksikale (mikrostrukturele) kenmerke wat bydra tot die onverstaanbaarheid van regsdokumente en hoe dit in die hervertaling hanteer is. Die tweede deel is ’n bespreking van die makrostrukturele veranderinge wat in die hervertaling aangebring is om die kognitiewe verwerking van die dokument te vergemaklik. 

5.1 Sintaktiese en leksikale kenmerke van Afrikaanse regstaal

5.1.1 Lang komplekse sinne

Die gebruik van lang, moeilike en semanties gelaaide sinne is kenmerkend van regsdokumente. Die gebruik van uitermate lang sinne is ’n verskynsel wat al vir jare deel is van die regstaaltradisie. Lang sinne word veral in operatiewe regsdokumente soos kontrakte, wette en testamente gebruik (Cornelius 2012:170). Daar is gevalle waar die lengte van ’n sin glad nie begripsprobleme veroorsaak nie, maar dit is slegs wanneer die sin uit eenvoudige sinskonstruksies sonder onderskikking bestaan. Lesch (2012:159) se enkoderingsnorm 6 vir gemeenskapsvertaling stel dit dat eenvoudige sintaktiese strukture gebruik moet word en dat sinne relatief kort behoort te wees en met duidelike antesedente geformuleer moet word indien daar van anaforiese kettings gebruik gemaak word. Lesch stel voor dat die teksontwerper gebruik maak van paragraafreliëf, wat beteken dat langer sinne in korter dele of sinsnedes opgedeel moet word. Korter sinne met eenvoudige sinskonstruksies kan bydra tot gemakliker kognitiewe prosessering en kan juis daarom lei tot ’n verstaanbare en toeganklike teks (Lesch 2012:166). Daarteenoor kan kognitiewe verwerking deur die doelteksontvanger ook deur verduidelikings, motivering en uitbreiding vergemaklik word. In só ’n geval kompenseer die nadruklikheid en omslagtigheid van die taalgebruik vir die vreemde of onbekende taalkundige items om die doelteksleser ’n beter begrip te gee. Dit is nie altyd ’n geval van “’n goeie begrip wat ’n halwe woord nodig het” nie. Soms moet ’n goeie begrip deur eksplisiete formulering uitgespel word. Daarteenoor kan lang sinne, alhoewel dit maklik verstaanbaar mag wees, steeds resepsieprobleme veroorsaak, want die lengte van sinne plaas ’n las op die ontvanger se korttermyngeheue. Dit neem die ontvanger dus langer om die betekenis van die sin te begryp, en sodoende word daar stremming op die kognitiewe prosessering van die teks in sy geheel geplaas.

Voorbeeld 1

BT:  
2.20. If there are any claims or disputes between the client and the merchant or supplier in respect of the nature, quality or quantity of any goods or services obtained by the client from the merchant or supplier or in respect of any other matter, the bank’s right to receive payment from the client will not be affected in any way nor will it give anyone a right of setoff or counterclaim against the bank. The client hereby acknowledges that no merchant or supplier is the bank’s agent.
DT 1:  
2.22.6 As daar enige eise of geskille tussen die kliënt en enige handelaar of verskaffer bestaan ten opsigte van die aard, gehalte of hoeveelheid van enige goedere of dienste wat die kliënt by die handelaar of die verskaffer verkry het of ten opsigte van enige ander saak, word die bank se reg om betaling van die kliënt te ontvang geensins geraak nie en gee dit ook aan niemand ’n skuldvergelykingsreg of teeneis teen die bank nie. [75 woorde]
DT 2:  
8.3. Jy gee die bank jou toestemming om enige transaksie goed te keur wat jy op jou kaart doen as jy genoeg geld in jou rekening het om vir daardie spesifieke transaksie te betaal.
8.4. Die bank is nie verantwoordelik as daar later probleme is met ’n transaksie wat jy gedoen het nie. Dit is die bank se plig om transaksies goed te keur, en dit is jou plig om vir transaksies te betaal.

 

Lang sinne lei daartoe dat die teksontvanger die betrokke sin(ne) meer as een keer moet lees alvorens hy/sy ’n punt bereik waar hy/sy die sin(ne) verstaan, en dit kan ook daartoe lei dat die leser belangstelling in die teks verloor. Die riglyn wat Kimble (1992a:13) stel, is dat ’n sin nie langer as 25 woorde moet wees nie. Vir Afrikaans kan die misindeks soos deur Combrink (1992, bylae 3:2) ontwikkel as ’n numeriese of formule ook ontgin word om die moeilikheidsgraad van ’n sin te bepaal.7 Voorbeeld 1 in DT 1 se sinslengte is 75 woorde. In die hervertaling is elke besluit tydens die vertaalaktiwiteit met die doelteksleser in gedagte geneem. Gedagtig aan die teikenleser is dit moeilik om te glo dat hy/sy die bostaande voorbeeldsin voldoende sal verstaan (DT1). Hierdie voorbeeldsin is kompleks en sal uiteraard geweldige druk op enige leser se korttermyngeheue plaas. Klousule 2.20 in voorbeeld 1 in DT1 word in DT2 in korter dele (sinne) opgedeel en die boodskap word in afsonderlike subklousules oorgedra. Die korter sinne en subklousules maak dit makliker vir die leser om die inligting te prosesseer.

Volgens Cornelius (2012:172) “[vertoon] [o]peratiewe dokumente soos kontrakte uiterse sintaktiese kompleksiteit”. Kontrakte en ander regsdokumente bevat gereeld ’n groot aantal komplekse onderskikkende bysinne. Behalwe vir, onder andere, die moeilike tegniese terminologie, dra die oormatige gebruik van bysinne ook by tot die moeilike aard van regsdokumente. Gibbons (2003:170) noem dat bysinne so ’n groot bydrae lewer tot die onverstaanbaarheid van regsdokumente dat “even for a legal audience, such texts can require work before they are understood in full.”

5.1.2 Invoeging van voorwaardes en kwalifiserings

Voorwaardes en kwalifiserings is ’n groot rede waarom sinne in regsdokumente so lank en omslagtig is. Volgens Garner (2009:296) is die invoeging van kwalifiserings en voorwaardes ’n tradisionele kenmerk van regsdokumente: “Lawyers have aimed for a type of ‘precision’ that results in a cumbersome style of writing, with many long sentences collapsing under the weight of qualifications.”

Die oorspronklike vertaling behou die gebruik van voorwaardes en kwalifiserings wat in die doelteks voorkom. Die rede vir die groot aantal voorwaardes en kwalifiserings is om te verseker dat die kontrak en die afsonderlike klousules nie universele toepassing geniet nie, maar slegs op die betrokke kontrak van toepassing is (Cornelius 2012:174). Die invoeging van voorwaardes en kwalifiserings is dus belangrik, maar in stede daarvan om dit in ’n enkele sin te verpak, kan dit afsonderlik gelys word. Sodoende word die voorwaardes steeds genoem sonder enige komplekse sintaktiese strukture (Cornelius 2012:175)8 en dit het nie noodwendig enige regsfoute of onnodige skuiwergate tot gevolg nie.

Daar is wel voorbeelde in die bestaande Afrikaanse vertaling (DT1) waar die voorwaardes gelys word, maar dit is steeds moeilik verstaanbaar, want daar word geen poging in die vertaling aangewend om die grammatikale of leksikale items te vereenvoudig tot ’n verstaanbare vlak nie. Neem die volgende voorbeeld:

Voorbeeld 2

BT:  
19. EVENTS OF DEMAND
19.1. The following will be events of demand, each of which will be severable and distinct from the others:
19.1.1. if the client fails to conduct the account in a manner acceptable to the bank;
19.1.2. if the client allows the account to become overdrawn and fails to rectify such excess on demand;
19.1.3. if the client breaches any condition contained in this agreement, or breaches a condition of any other agreement with the bank (which breach will constitute a breach of this agreement);
19.1.4. if the client commits an act of insolvency, or an act similar to an act of insolvency, as defined in the Insolvency Act of 1936 (as amended) or an act defined in terms of section 344 of the Companies Act of 1973 (as amended), if applicable;
19.1.5. if the client is unable or ceases for any reason whatsoever to conduct the business carried on by it in an ordinary and regular manner, if applicable;
19.1.6. if any material assets of the client are attached under writ of execution; or
19.1.7. if the client is voluntarily or compulsorily placed under judicial management, is sequestrated or has his estate wound up, or enters into any compromise, composition or arrangement with its creditors or any class thereof.
DT 1:  
19. Eisgebeurtenisse
19.1. Die volgende is eisgebeurtenisse en elkeen daarvan is skeibaar en onderskeibaar van die ander:
19.1.1. as die kliënt versuim om die rekening te bedryf op ’n manier wat vir die bank aanvaarbaar is;
19.1.2. as die kliënt toelaat dat die rekening oortrokke raak;
19.1.3. as die kliënt enige voorwaarde wat in hierdie ooreenkoms vervat is of ’n voorwaarde in enige ander ooreenkoms met die bank verbreek (welke verbreking ’n verbreking van hierdie ooreenkoms sal uitmaak);
19.1.4. as die kliënt ’n insolvensiedaad of ’n daad soortgelyk daaraan, soos in die Insolvensiewet van 1936 (soos gewysig) gedefinieer, of ’n daad ingevolge artikel 344 van die Maatskappywet van 1973 (soos gewysig) indien toepaslik, begaan;
19.1.5. as die kliënt, om watter rede ook al, nie in staat is nie of ophou om die besigheid wat hy bedryf, op ’n gewone en reëlmatige manier te bedryf, indien van toepassing;
19.1.6. as daar kragtens ’n lasbrief vir eksekusie op enige wesenlike bates van die kliënt beslag gelê word; of
19.1.7. as die kliënt onder vrywillige of verpligtende geregtelike bestuur geplaas word of gesekwestreer of sy boedel gelikwideer word, hy óf met sy krediteure óf enige klas daarvan ’n skikking tref, akkoord aangaan of ’n reëling tref. 

 

In die hervertaling word voorbeeld 2 se voorwaardes ook gelys, maar met die klem op verstaanbaarheid en duidelikheid.

DT 2:  
a. Daar kan geëis word wanneer:
  •  jy volgens die bank nie jou rekening op ’n aanvaarbare manier bestuur nie;
  •  jy toelaat dat jou rekening ’n minusbalans het;
  •  jy enige reël of regulasie in hierdie kontrak verbreek;
  •  jy volgens wet iets met opset doen om bankrot te speel;
  •  jy nie meer jou besigheid op ’n normale wyse kan bestuur nie;
  •  jy nie meer bates het nie; of
  •  jy in finansiële moeilikheid is en afbetalingreëlings met jou skuldeisers getref het.

 

Volgens die Federal Plain Language Guidelines (PLAIN 2011:56) is dit beter om eers die hoofidee van ’n sin aan te bied en daarná die voorwaardes en kwalifiserings in te voeg. As dit gedoen word, sal die doelleser die sin makliker volg en verstaan. Sien ook Lesch (2012:167) se teksuitlegnorm 15 in dié verband. 

5.1.3 Misplaaste frases

Misplaaste frases is frases wat onderbreking in sinne veroorsaak. Hierdie onderbreking word normaalweg deur die invoeging van bysinne teweeggebring. Die verskynsel van misplaaste frases raak nog meer problematies as die teksontvanger ’n oningeligte leser is (Bhatia 1993:113). Dit oorlaai die leser se korttermyngeheue, en die leser moet eers die frases prosesseer en begryp voor daar by die kern van die sin uitgekom kan word. Voorbeelde waar hierdie frases gebruik word, sluit in: 

Voorbeeld 3

BT:  
2.22. The client will not have the right to stop any payment that the bank makes or which the bank is about to make to a merchant or supplier in respect of any transaction, nor will the client have the right to instruct the bank to reverse a payment in respect of a transaction that has already been made, except as may be provided otherwise by statute.
DT 1:  
2.24. Die kliënt het nie die reg om enige betaling ten opsigte van enige transaksie wat die bank besig is om te doen of op die punt te staan om te doen, te keer nie, en die kliënt het ook nie die reg om die bank opdrag te gee om ’n betaling ten opsigte van ’n transaksie wat reeds gedoen is, om te swaai nie, behalwe soos waarvoor daar moontlik anders by wet voorsiening gemaak word. 
DT 2:  
8.3. Jy gee die bank jou toestemming om enige transaksie wat jy op jou kaart doen, goed te keur as jy genoeg geld in jou rekening het om vir daardie transaksie te betaal.
8.6. Jy mag nie die bank vra om ’n transaksie om te swaai nie, behalwe as wetgewing dit toelaat.

 

Die hervertaling in voorbeeld 3 (8.3 en 8.6) maak dit duidelik dat die kliënt nie beswaar kan aanteken as ’n transaksie goedgekeur word nie, want die kliënt het by die ondertekening van die kontrak ingestem dat die bank die reg het om transaksies goed te keur. In die oorspronklike vertaling bestaan voorbeeld 3 (klousule 2.24) uit 76 woorde en in die hervertaling is daardie klousule tot 53 woorde verkort en oor twee aparte klousules versprei. Die hervertaling het die misplaaste frases verwyder om die vloei van die klousule te verbeter.

5.1.4 Lang aanlope

Lang aanlope is nog ’n skryftegniek wat in regsdokumente, veral operatiewe dokumente soos kontrakte, ingespan word. Hierdie tegniek word gebruik vir deeglikheidsdoeleindes. Lang aanlope kom voor in die vorm van bysinne wat “ingelei word deur voorwerpadjunkte [soos onder andere] as/indien, ingeval, mits en met dien verstande” (Cornelius 2012:179). Die hoofrede waarom lang aanlope of gevallebeskrywing as ’n skryftegniek ingespan word, is dat regsbepalings selde universele toepassing het, en daarom word elke klousule met ’n relevante en spesifieke geval of situasie toegelig om die klousule slegs op daardie betrokke kontrak van toepassing te maak (Bhatia 1993:110).

Vir die doeleindes van die hervertaling, en volgens die vertaalopdrag vir die hervertaling, moet slegs die hoofidee van elke klousule oorgedra word. In die meeste gevalle is onder andere die bysinne en lang aanlope weggelaat om die kognitiewe prosessering vir die teksontvanger wat in die vertaalopdrag gedefinieer is, te vergemaklik. Lang aanlope plaas ekstra prosesseringslading op die teksontvanger se geheue (Cornelius 2012:180). Dit raak moeilik vir die doelleser om die kernbetekenis van die sin/klousule te verstaan as hy/sy eers deur die aanloop moet lees en dán eers by die hoofboodskap van die sin uitkom. Lesch (2012:159) noem in die sewende enkoderingsnorm vir gemeenskapsvertaling dat die gebruik van “kort en eenvoudige woorde” aangemoedig word.

Voorbeeld 4

BT:  
2.12. Except where a transaction is made by means of PIN or is made by mail or telephone order, the client must sign a sales voucher or a refund voucher, as the case may be, each time the card is used or the card number is given to a merchant or supplier. By signing the voucher the client confirms that the information on it is The client will be liable for and must repay the bank for all amounts the bank pays in respect of the client’s card transactions. Unless the client has notified the bank that the card has been lost or stolen in terms of clause 2.10, even if the client does not sign the relevant vouchers , the client will still be liable to the bank for such transactions.
DT 1:  
2.14. Behalwe waar ’n transaksie deur middel van die PIN gedoen word of per pos- of telefoonbestelling versoek word, moet die kliënt ’n verkoopsbewys of terugbetalingsbewys, na gelang van die geval, onderteken elke keer wanneer die kaart gebruik of die kaartnommer aan ’n handelaar of verskaffer gegee word. Deur die bewys te onderteken bevestig die kliënt dat die inligting daarop korrek is. Die kliënt sal aanspreeklik wees vir alle bedrae wat die bank ten opsigte van die kliënt se kaarttransaksies betaal en die kliënt sal dit aan die bank moet terugbetaal. Tensy die kliënt die bank ingevolge klousule 2.10 in kennis gestel het dat die kaart verlore geraak het of gesteel is, sal die kliënt steeds teenoor die bank vir sodanige transaksie aanspreeklik wees, selfs al teken die kliënt nie die toepaslike bewyse nie. 
DT 2:  
1.1. Die bank trek geld van jou rekening af vir al die transaksies wat jy op jou kaart doen.
1.2. Jy onderteken elke keer ’n strokie wanneer jy jou kaart by ’n winkel gebruik. Jy onderteken die strokie omdat jy saamstem dat die inligting op die strokie korrek is en dat jy verantwoordelik is vir die betaling van die bedrag wat op die strokie verskyn.
1.3. Die bank is nie verantwoordelik as ’n winkel of ’n diensverskaffer nie jou kaart wil aanvaar nie.
1.4. Jy is nog steeds verantwoordelik vir alle transaksies wat op jou kaart gedoen word, al word die transaksies deur iemand anders gedoen.

 

5.1.5 Nominaalkonstruksies

Nominaalkonstruksies kom dikwels in regsdokumente voor. Hierdie konstruksies is kenmerkend van regstekste. Volgens Ponelis (1979:483) is daar “nominale naamwoorde wat morfologies van werkwoorde [en] adjektiewe [...] afgelei word”. Wanneer ’n handeling of ’n aksie as ’n saak voorgestel word, word dit ’n nominaalkonstruksie genoem. Kyk na die volgende voorbeeld:

Voorbeeld 5

BT:  
2.20. If a merchant or supplier refunds a client, the refund will be credited to the client’s account only in the event of and once the bank receives a properly issued credit voucher from the merchant or supplier.
DT 1:  
2.23. As ’n handelaar of verskaffer ’n terugbetaling aan die kliënt gee, word dit op die kliënt se rekening gekrediteer net in die geval waar en eers nadat die bank ’n behoorlik uitgereikte kredietbewys van die handelaar of verskaffer ontvang het.

 

In voorbeeld 5 word hierdie aksie of handeling van terugbetaling as ’n saak voorgestel, en nie ’n aksie waartydens die geld aan jou terugbetaal word nie. Die woorde aan die kliënt gee maak dat die terugbetaling as ’n naamwoord eerder as ’n werkwoord uitgedruk word. In die hervertaling probeer die vertaler die terugbetaling as ’n aksie uitdruk.

DT 2:  
8.6. As ’n winkel of ’n diensverskaffer jou moet terugbetaal, sal die bank die geld weer direk in jou rekening inbetaal.

 

5.1.6 Passiefkonstruksies

Passiefkonstruksies is nóg een van daardie konstruksies wat in byna alle regsdokumente voorkom. Daar word deur Felker e.a. (1981) en ander persone geargumenteer dat die oordrewe gebruik van die passiefkonstruksies ’n onpersoonlike gevoel aan regsdokumente gee (Cornelius 2012:191). Die passief is omslagtiger as die bedrywende vorm, en daarom het die leser meer inligting om deur te werk alvorens hy/sy die betekenis van die sin begryp. Aktiewe konstruksies verg minder inspanning. 

Aktiewe konstruksies wat in die hervertaling gebruik word, is korter as passiefkonstruksies in die oorspronklike vertaling; dit is meer persoonlik en betrek die teksontvanger by die teks. Die teksontvanger word in die meeste gevalle direk aangespreek deur persoonlike voornaamwoorde soos jy en jou (sien ook Lesch 2012:162 in hierdie verband). Volgens Cornelius (2012:198) word die aktiewe konstruksie meer dikwels in operatiewe dokumente soos kontrakte gebruik. Die vertaling maak egter nie van die aktiewe konstruksie gebruik nie, terwyl die hervertaling dit wel doen. Daar is volgens die Federal Plain Language Guidelines (PLAIN 2011:20) egter gevalle wanneer passiefkonstruksies ook gebruik kan word, veral in gevalle waar dit nie so belangrik is om te weet wie die handeling in ’n sin uitvoer nie. Daar is gevalle in die hervertaling waar die passiefkonstruksie eerder gebruik behoort te word. 

Voorbeeld 6

BT:  
2.13. The client must comply with all applicable exchange control regulations when the card is used outside the common monetary area. Card transactions made in foreign currencies will be converted into South African rand at an exchange rate determined by the bank and will be shown on the client’s statements in South African An additional fee may be payable by the client for such transactions. Such fee will be disclosed in the pricing brochure available from the bank.
DT 1:  
2.15. Die kliënt moet voldoen aan al die toepaslike deviesebeheerregulasies wanneer die kaart buite die gemeenskaplike monetêre gebied gebruik word. Kaarttransaksies wat in buitelandse valuta geskied, sal in Suid-Afrikaanse rand omgesit word teen ’n koers wat deur die bank bepaal word en in Suid-Afrikaanse rand op die kliënt se state getoon word. Bykomende gelde kan vir sodanige transaksies deur die kliënt betaalbaar wees. Sodanige gelde sal verstrek word in die prysingsbrosjure wat by die bank beskikbaar is. 
DT 2:  
5.6. Jy betaal ekstra bankkoste vir alle transaksies wat jy in die buiteland doen.

 

5.1.7 Voorsetsels

Die oormatige gebruik van voorsetsels en voorsetselkettings is kenmerkend van regsdokumente, en dit veroorsaak gewoonlik dat die teksontvanger begripsprobleme ondervind (Cornelius 2012:198–200).

Voorbeeld 7

BT:  
15.3. The bank may disclose information to credit reference agencies relating to the client’s personal debts owed to the bank: 
DT 1:  
15.3. Die bank is geregtig om inligting met betrekking tot die kliënt se persoonlike skulde aan die bank aan kredietverwysingsagentskappe te openbaar:
DT 2:  
20.1 Jou persoonlike inligting is privaat en word aan niemand anders bekend gemaak nie, behalwe: [...] 

 

5.1.8 Voornaamwoorde

Normaalweg, wanneer daar vir die eerste keer na ’n persoon of saak in ’n geskrewe of mondelinge teks verwys word, word die persoon of saak by naam genoem, en wanneer die persoon of saak weer daarna in die teks ter sprake kom, word daar met behulp van voornaamwoorde soos hy en sy en dit na daardie persoon of saak verwys. In operatiewe dokumente soos kontrakte word die gebruik van voornaamwoorde soos hy, sy, dit, wie en wat selde gebruik. Diegene wat regsdokumente saamstel, glo dat dit veiliger is om eerder nie voornaamwoorde in regsbindende dokumente te gebruik nie, want volgens Gibbons (2003:63) is “lawyers notoriously expert at exploiting any possible ambiguity or alternative interpretation”. 

In regsdokumente word eerder die voorkeur vir herhaling uitgeoefen. Malley (1994:25) wys daarop dat “repetition rather than pronouns has always been the preferred cohesive device in legislative drafting.” Die herhaling van ’n persoon se naam of saak verminder die kanse op verwarring of waninterpretasie van, onder andere, ’n spesifieke klousule (Cornelius 2012:212). Die ontvanger van die teks weet dan presies, en sonder twyfel, wanneer na wie verwys word, en wie waarvoor verantwoordelik is. Nog ’n rede waarom regsdokumente herhaling bo die gebruik van voornaamwoorde verkies, is dat regsdokumente dikwels gebruik maak van lang, komplekse sinne, en gewoonlik is die onderwerp te ver verwyder van die voorwerp en die hoofwerkwoord in ’n sin. Herhaling is dan ’n beter opsie om verwarring en waninterpretasie te vermy. 

Die gebruik van persoonlike voornaamwoorde soos jy en jou gee wel ’n gevoel van gemaklikheid, en dit maak die dokument minder intimiderend of onpersoonlik vir die doelleser. In die hervertaling word die gebruik van voornaamwoorde gereeld ingespan. Neem die volgende voorbeeld:

Voorbeeld 8

BT:  
18.1. Without detracting from or in any manner limiting the bank’s right in the event of default , the client’s attention is directed to section 86 of the act, which entitles the client, in certain circumstances, to apply to a debt counsellor in the prescribed manner and form to have the client declared overindebted. 
DT 1:  
18.1. Sonder om af te doen aan die bank se reg in geval van wanprestasie of om dit op enige manier te beperk, word die kliënt se aandag gevestig op artikel 86 van die Wet wat die kliënt in sekere omstandighede geregtig maak om op die voorgeskrewe manier en vorm by ’n skuldberader aansoek te doen om die kliënt oorverskuldig te laat verklaar.
DT 2:  
23.1. Jy kan afbetalingreëlings met die bank tref om jou te help om jou skuld af te betaal.

 

5.1.9 Tegniese terminologie

Tegniese woorde wat eie aan sekere velde of dissiplines is, is altyd die eerste kenmerk wat ’n uitdaging vir die leketeksontvanger kan inhou. Spesialisterme is nie woorde wat in alledaagse gesprekke of generiese (geskrewe) tekste gebruik word nie, wat beteken dat daardie tipe woorde aan die periferie van die gewone verbruiker se aktiewe woordeskat is (Cornelius 2012:204). Die reg is een van hierdie velde wat bekend is vir die gebruik van tegniese, deftige en hoogdrawende woordeskat. Die rede waarom hierdie tegniese (spesialis)terme in die meeste gevalle so moeilik is om te begryp, is dat die betekenis van die terme nie noodwendig direk van die konteks waarin dit voorkom, afgelei kan word nie. Charrow (1988:99) noem dat indien die leser van ’n tegniese dokument oor ’n lae opvoedingsvlak beskik, die moontlikheid groot is dat daardie persoon ontmoedig sal word om die dokument verder te lees, want hy/sy lees ’n dokument wat hy/sy nie verstaan nie. Lesch (2012:157) se vyfde enkoderingsnorm stel dit duidelik dat die gebruik van “gemoedelike taal en styl” aangemoedig word sodat dit ooreenstem met die teksontvanger se begripsvermoë ten einde te verseker dat die teksontvanger maksimum toegang tot en begrip van die teks het. Die teks moet dus lesersvriendelik wees en die leser moet daarmee kan identifiseer. Die idee is om nie jou leser te vervreem nie en beslis ook nie om ’n afstand tussen die teks en teksontvanger te skep nie. Lesch (2012:157) waarsku egter dat die gebruik van streektaal in ’n teks nie oordrewe moet wees nie. Die hervertaling wend ’n poging aan om die tegniese woorde wat in DT 1 voorkom, te omskryf. Neem die volgende voorbeeld: 

Voorbeeld 9

BT:  
18.1. [...] to apply to a debt counsellor in the prescribed manner and form to have the client declared overindebted
DT 1:  
18.1. […] by ’n skuldberader aansoek te doen om die kliënt oorverskuldig te laat verklaar.
DT 2:  
23.3. Jy kan ’n skuldberader gaan spreek om te bepaal of jy te veel skuld het of nie. ’n Skuldberader is ’n opgeleide persoon wat mense help wat te veel skuld het en nie weet hoe om dit te betaal nie. 

 

In DT 2 word die tegniese term omskryf sodat die leser dadelik weet wat daarmee bedoel word. (Sien Lesch 2012:164.)

5.2 Makrostrukturele kenmerke

Makrostrukturele kenmerke verwys na die uitleg van die dokument, want ook die eksterne struktuur speel ’n rol by die toeganklikheid van die teks. Teksontvangers maak heel eerste kennis met die eksterne struktuur van ’n dokument. Dit is daarom belangrik dat ’n dokument ’n gepaste eksterne struktuur het, want “many readers come to documents without enough time to read them fully, [so] they hope the structure will ‘leap out’ at them” (Schriver 1997:251). Hierdie afdeling behels ’n bespreking van die makrostrukturele veranderinge wat in die hervertaling aangebring is om die toeganklikheid en verstaanbaarheid van die dokument te bevorder.

Dokumente word deesdae ontwerp met die doel om verstaanbaarheid en toeganklikheid te bevorder. As daar na die geletterdheidsvlakke in Suid-Afrika gekyk word, is dit belangrik dat teksontwerpers besef dat Suid-Afrika uiteenlopende lesersgroepe het. Dit is ook belangrik om met hierdie verskillende lesersgroepe rekening te hou en dat (geskrewe of gesproke) kommunikasie hierdie realiteit in ag neem om te verseker dat verbruikersdokumente ooreenstemmend opgestel word. Daar is wetgewing van krag wat dokumentontwerpers verplig om te verseker dat dokumente verstaanbaar en toeganklik is.9

Ten einde hierdie verstaanbaarheid en toeganklikheid te verwesenlik, moet daar sekere aanpassings aan en veranderinge in dokumente aangebring word om die leeservaring en die kognitiewe prosessering van enige gegewe teks te vergemaklik. “Verbruikers wil vinnige en doeltreffende toegang tot inligting verkry en is toenemend kieskeurig oor die gehalte van die dokument wat hulle lees” (Cornelius 2012:219). Dit is moeilik om tegniese dokumente verstaanbaar en toeganklik te maak, maar dit is nie onmoontlik nie. Die bestaande praktyk noodsaak dat regsdokumente ’n breë strukturele verandering moet ondergaan om toeganklikheid te verbeter. Soos in die funksionalistiese benadering tot vertaling, speel die ontvanger van die teks ’n belangrike rol. Indien die doelleser van enige dokument deeglik gedefinieer word, kan die nodige aanpassings aan ’n dokument gemaak word ten einde te verseker dat die gedefinieerde doelleser die teks kan begryp. 

5.2.1 Opsomming 

Regsdokumente is bekend vir hul inligtingsdigtheid, wat gewoonlik verwerkingsprobleme tot gevolg het, en daarom kan dit ’n goeie idee wees om ’n kort opsomming of oorsig aan die begin van die dokument in te sluit sodat die teksontvanger dadelik weet waaroor die betrokke dokument gaan. Die invoeging van ’n kort oorsig of opsomming “kan die prosesseringslading van die teksontvanger verlig” (Cornelius 2012:226).

Hierdie makrostrukturele aanpassing dien feitlik dieselfde doel as die kopnota wat by hofsake aanwesig is. Die kopnota bevat ’n grondige opsomming van wat die rede vir die saak is, asook die beslissing. Die bestaande Afrikaanse vertaling begin met ’n lys definisies. Die teksontvanger word gekonfronteer met ’n lys definisies wat hy/sy nog nie in die teks teëgekom het nie. Alvorens die verbruiker nie die teks lees nie, gaan hy/sy geen relevansie sien in die lys definisies wat aan die begin van die kontrak aangebied word nie. Volgens Cornelius (2012:229) is die invoeging van omskrywingslyste ’n tendens in verbruikersdokumente in Suid-Afrika, maar sy noem ook dat hierdie lyste gewoonlik verbruikersonvriendelik is, dat daar nie noukeurig genoeg gewerk word met die invoeging van hierdie lyste nie, en dat dit bloot ’n “resultaat van vertaling” is.

Volgens PLAIN (2011:42) “moet lang woordomskrywingslyste verkieslik vermy word. [Omskrywings] kan eerder aangebied word op die plek waar die woord vir die eerste keer gebruik word.” Om hierdie rede is die omskrywingslys wat in die bestaande Afrikaanse vertaling voorkom, verwyder, en omskrywings word gebruik slegs waar die woord of term vir die eerste keer gebruik word. Die oorspronklike lys van omskrywings is vervang met ’n kort opsomming van die dokument. Sien voorbeeld 10 uit die hervertaling:

Voorbeeld 10

Hierdie dokument is die kontrak tussen jou en die bank omdat jy ’n lopende rekening oopgemaak het. Die dokument is saamgestel om jou te wys hoe om jou bankkaart te gebruik en hoe om jou rekening te bestuur.

Die hervertaling begin met bostaande twee sinne (voorbeeld 10) wat die ooreenkoms inlei en die kliënt inlig waaroor die dokument gaan, en wat hy/sy onder andere in die dokument kan verwag.

5.2.2 Vraagopskrifte

In die algemeen gee opskrifte duidelike struktuur aan ’n dokument. Opskrifte of titels help die teksontvanger om sin te maak van die onderskeie afdelings in ’n teks. ’n Opskrif of titel bevat gewoonlik inligting oor wat in die daaropvolgende paragraaf of afdeling volg (Cornelius 2012:230). In die Federal Plain Language Guidelines (PLAIN 2011:11) word daar onderskei tussen drie soorte opskrifte, naamlik vraagopskrifte, stellingopskrifte en inhoudsopskrifte. Enigeen van hierdie drie kan in ’n dokument ingespan word ten einde struktuur in die dokument te bewerkstellig. Die bestaande Afrikaanse vertaling (DT 1) maak wel gebruik van opskrifte, maar volgens klousule 28.2. in die oorspronklike vertaling moet die opskrifte nie as ’n hulpmiddel beskou word om die dokument te verstaan nie. Die klousule lui soos volg: “Al die opskrifte in hierdie bepalings en voorwaardes is slegs vir gerief en moet nie by die vertolking van die ooreenkoms in ag geneem word nie.” Die afleiding wat dus van hierdie klousule gemaak kan word, is dat die opskrifte nie vir interpretasiedoeleindes gebruik moet word nie, want dit het geen regskrag nie en is dus nie regsgeldig nie.

Volgens Cornelius (2012:232) word opskrifte meer gereeld in verbruikersdokumente gebruik, en die hoofrede daarvoor is die wetgewing wat daargestel is om instansies en maatskappye te verplig om dit te doen. Vir die doeleindes van die hervertaling (DT 2) is daar hoofsaaklik van vraagopskrifte gebruik gemaak. Vraagopskrifte maak die leser of teksontvanger deel van die teks. Die dokument word as’t ware interaktief en “[dit] gee sodoende persoonlike betekenis aan die inligting” (Cornelius 2012:230). Die leser word betrek deur hom/haar direk aan te spreek of deur ’n vraag aan hom/haar te stel en dikwels is dit vrae wat die leser self het. Die doelteksleser raak dus aktief deel van die vertaalteks (Lesch 2012:161). Die aanspreekvorme jy en jou vernou die gaping tussen die sender van die dokument en die ontvanger. Die leser is onmiddellik gemakliker en ervaar die dokument as minder intimiderend (Lesch 2012:157).

Die bankdokument is ’n informatiewe sowel as ’n instruktiewe teks, en daarom is dit ’n goeie strategie om vraagopskrifte te gebruik. Die rekeninghouer mag dalk onder andere nie weet hoe om die bankkaart te gebruik nie of watter kostes aan die rekening verbonde is nie. Die opskrifte antisipeer daardie vrae en poog om daardie vrae in ’n opskrif te formuleer om sodoende die antwoorde op daardie moontlike vrae te bied. Vraagopskrifte met die gebruik van persoonlike voornaamwoorde maak ook die kontrak minder intimiderend, en die teksontvanger vind die dokument lesersvriendelik en toeganklik (Cornelius 2012:230). Met die gebruik van persoonlike voornaamwoorde voel die doelleser dat daar direk en persoonlik met hom/haar gepraat word en nie met ’n groep of net ’n denkbeeldige party of entiteit tot die kontrak nie. 

Hier onder volg ’n voorbeeld van hoe die vraagopskrifte in die hervertaling hanteer is:

Voorbeeld 11

BT: USE OF CARDS
DT 1: DIE GEBRUIK VAN KAARTE
DT 2: •  Hoe moet jy jou bankkaart gebruik?

 

5.2.3 Parallelisme

Parallelisme of parallelle konstruksies gaan hand aan hand met lyste. Die items of die sinsdele in ’n lys moet in dieselfde verhouding tot die inleidingsin wat die lys voorafgaan staan (PLAIN 2011:73). Die lys of kolpunte wat na die inleidingsin volg, moet ’n volledige sin tesame met die inleidingsin aan die einde kan vorm. Konsekwente gebruik van ’n grammatikale struktuur is ook belangrik, want dit vergemaklik die leesproses (Cornelius 2012:241). Neem die volgende voorbeeld waar daar van parallelisme gebruik gemaak word in die BT (in die laaste twee kolpunte in die BT word dit egter nie nagekom nie) en DT 1. Die verwagting is dat DT 2 ook dit moet nakom – wat wel die geval is.

Voorbeeld 12

BT:  
15.1. The client’s personal information will be treated as confidential and will not be disclosed, except in the following circumstances:
15.1.1. when the bank is legally compelled to do so;
15.1.2. when it is in the public interest to disclose; and
15.1.3. when the bank’s interests require disclosure; or when disclosure is made at the client’s request or with his written consent.
DT 1:  
15.1. Die kliënt se persoonlike inligting word as vertroulik beskou en word nie geopenbaar nie, behalwe in die volgende omstandighede:
15.1.1 wanneer die bank regtens verplig is om dit te doen;
15.1.2. wanneer dit in die openbare belang is om dit te doen;
15.1.3. wanneer die bank se belange openbaring vereis; of
15.1.4. wanneer openbaring op versoek van die kliënt of met sy skriftelike goedkeuring geskied.
DT 2:  
20.1. Jou persoonlike inligting is privaat en word aan niemand anders bekend gemaak nie, behalwe:
  •  as jy agter raak met jou terugbetalings van skuld, want dan sal die bank jou inligting aan agentskappe bekend maak wat jou kan help om jou skuld beter te bestuur;
  •  as jy vra dat jou inligting bekend gemaak moet word; of
  •  as jy ’n beperkte rekening het, want dan sal die bank jou persoonlike inligting aan BankServ bekend maak.
20.2. Jy moet eers toestemming gee voor jou persoonlike inligting bekend gemaak mag word. 

 

5.2.4 Logiese organisering van inligting

Kognitiewe prosessering van ’n dokument word bevorder indien die inligting logies geplaas word. Die fokus in die hervertaling is nie soseer om die inligting in logiese volgorde te plaas nie. Uiteraard is al die inligting in ’n ooreenkoms belangrik en die kliënt moet daarvan kennis neem. In ’n ooreenkoms soos die betrokke bankdokument is alle klousules ewe belangrik. Die idee met die hervertaling is om dieselfde soort inligting te sinchroniseer en te groepeer (Lesch 2012:166) om te verhoed dat die teksontvanger heen en weer in die ooreenkoms hoef te blaai. Die idee is ook om kruisverwysings te verminder deur dieselfde soort inligting bymekaar te voeg. Sodoende is al die inligting oor ’n spesifieke onderwerp op een plek. Die leesproses word ook hierdeur vergemaklik (Cornelius 2012:241–2). Hierdie idee van groepering en sinchronisering van inligting sluit aan by sowel Toury (1980:54, 102) as Lesch (2012:166–7) se idee van manipulering van segmentasie. Dit is die proses waartydens inligting in ’n teks strategies rondgeskuif word om die begrip van die teks te bevorder. Minder-tersaaklike inligting kan ook weggelaat word, maar die vertaler moet verseker dat die kern, of die essensie, van die dokument behou word. Lesch (2012:162) noem dat wanneer inligting wél weggelaat word, dit verkieslik inligting moet wees wat nie die betekenis van die dokument in sy geheel onder verdenking plaas nie. 

Die groepering van dieselfde soort inligting kan ook ’n minder komplekse nommerstelsel tot gevolg hê. (Meer oor numerering in die volgende subafdeling.) Klousule 2.2 in die oorspronklike vertaling is byvoorbeeld na afdeling 3 geskuif, waar daar meer oor die rekening self gepraat word. Daar is ook gevalle waar inligting wat onder andere herhaal word, uitgehaal is. Klousules 22.1 en 22.3 in DT 1 is byvoorbeeld in een klousule in DT 2 saamgevoeg. Klousules 17.1 en 17.2 in DT 2 is ’n samevoeging van klousule 12.1 tot 12.1.3 in DT 1.

5.2.6 Vertikale lyste

Volgens PLAIN (2011:71) is die gebruik van vertikale lyste ’n goeie strategie om in te span indien die doelwit is om inligting visueel uiteen te sit, inligting op grond van belangrikheid te onderskei of die verskillende stappe stapsgewys in ’n proses weer te gee. Die bestaande Afrikaanse vertaling bevat byna elke klousule se voorwaardes en kwalifiserings. In die hervertaling word ’n poging aangewend om hierdie voorwaardes en kwalifiserings eerder in ’n vertikale lys weer te gee, eerder as om dit deel te maak van ’n lang, omslagtige sin. Die invoeging van vertikale lyste vergemaklik die leesproses en die inligting vertoon duideliker op ’n bladsy. Die beweegrede is dat die teksontvanger die inligting makliker kan volg.

Voorbeeld 13

BT:  
2.18. The client authorises the bank (which authorisation may not be cancelled):
2.18.1. to pay any purchases or services in respect of which the card or the card number is used and to debit the amount concerned to the client’s account;
2.18.2. to debit the client’s account with the amount of the sales voucher or any other cash amount withdrawn; and
2.18.3. to make the necessary entries to do the above and to reverse these entries when appropriate.
DT 1:  
2.20. Die kliënt magtig die bank (en hierdie magtiging mag nie gekanselleer word nie):
2.20.1. om vir enige aankope of dienste ten opsigte waarvan die kaart of die kaartnommer gebruik word, te betaal en die betrokke bedrag teen die kliënt se rekening te debiteer;
2.20.2. om die kliënt se rekening te debiteer met die bedrag van die verkoopsbewys of met die ander kontantbedrag wat onttrek is; en
2.20.3. om die nodige inskrywings met die oog op die bostaande te doen en hierdie inskrywings om te swaai wanneer dit gepas is. 

 

In die onderstaande voorbeeld word die klousule 2.20 (soos in DT 1) herbewerk deur die sinne te verkort en kolpunte te gebruik.

DT 2:  
5.9. Voorbeelde van transaksies is wanneer:
  •  jy goedere met jou kaart aankoop
  •  jy betalings met jou kaart maak
  •  jy geld van een rekening na ’n ander oordra
  •  jy geld uit jou rekening trek
  •  jy deposito’s inbetaal.

 

Volgens die Federal Plain Language Guidelines moet ’n vertikale lys altyd van ’n inleidende sin vergesel word. Daar word ook deur die Guidelines gewaarsku teen die oorgebruik van vertikale lyste – vertikale lyste moet dus spaarsamig gebruik word.

5.2.7 Kruisverwysings

Volgens die Federal Plain Language Guidelines (PLAIN 2011:83) word die gebruik van kruisverwysings glad nie deur teksontvangers verwelkom nie. Kruisverwysings word beskou as ’n hinderlikheid wat die vlotheid van ’n dokument nadelig beïnvloed, en dit oorlaai die leser se korttermyngeheue. Dit lei dan daartoe dat die leser se aandag van die boodskap in die dokument afgelei word. Die doel met die hervertaling is om die leser so min as moontlik werk te gee terwyl hy/sy die dokument lees. Dit word gedoen deur kruisverwysings tot ’n minimum te beperk, of selfs in geheel uit te skakel, deur soortgelyke inligting só te organiseer dat dit op een plek in die dokument gevind kan word. Volgens Cheek (2010:13) is daar selfs ’n wet in Pennsilvanië van krag wat vereis dat verbruikerskontrakte nie kruisverwysings moet bevat nie.

Neem die volgende voorbeeld waar kruisverwysings gebruik word:

Voorbeeld 14

BT:  
2.11.2. [...] before the bank has had the reasonable opportunity, after the verbal notification in terms of clause 2.10 above [...]
DT 1:  
2.13.2. […] voordat die bank redelikerwys geleentheid gehad het om ná die mondelinge kennisgewing waarna in klousule 2.10 hierbo verwys word […] 

 

In 14 word die leser terugverwys na klousule 2.10. In ander gevalle word die leser verwys na ’n klousule wat eers later in die ooreenkoms voorkom. Eerstens word die leesproses onderbreek deur die kruisverwysings en tweedens word die leser se aandag gevestig op ’n klousule wat hy/sy nog nie eers gelees of by uitgekom het nie. Die benadering wat deurgaans in die hervertaling gevolg is, is om kruisverwysings te vermy en die frase uit te skryf en deel te maak van die klousule, eerder as om dit as ’n verwysing te behou. 

5.3 Algemene opmerkings

5.3.1 Woordeskat

Formele ooreenkomste is bekend vir die gebruik van tegniese terminologie, en die generiese leser ervaar dikwels probleme met die kognitiewe prosessering van hierdie tegniese woorde. In die oorspronklike vertaling word daar dikwels woorde gebruik wat eie is aan die bankwese. Die vertaler poog om met die hervertaling egter daardie woorde in gewone taalgebruik te omskryf. Voorbeelde is onder andere:

  1. Kredietsaldo
    Kredietsaldo is omskryf as ’n positiewe balans.
  1. Debietsaldo
    Debietsaldo is omskryf as ’n minusbalans of wanneer daar geen geld in jou rekening is nie. 
  1. Skuldhersiening
    Skuldhersiening is omskryf in ’n vraagopskrif wat soos volg lui: Het jy te veel skuld?
  1. Debiete teen die rekening te betaal
    Debiete is vertaal as debietorders eerder as aftrekorders. Die skrywers is uit hulle ervaringswêreld van mening dat die doelleser meer bekend behoort te wees met debietorders eerder as aftrekorders, omdat die woord debietorders meer dikwels gebruik word as aftrekorders. Semanties sê aftrekorder egter presies wat dit is en is debietorder moeiliker, alhoewel dit ’n hoër gebruiksfrekwensie het.
  1. Kontrak teenoor ooreenkoms
    Die vertaler van die hervertaling verkies kontrak bo ooreenkoms, want die woord kontrak het ’n onmiddellike regskonnotasie en die verbruiker weet dadelik dat dit ’n regsdokument is wat moontlik onderteken moet word. Die woord ooreenkoms daarenteen het nie noodwendig daardie onmiddellike konnotasie met ’n regsdokument nie. Die HAT (2009:609, 811) gee die volgende definisies:

    “Kontrak” – Ooreenkoms waarby wedersydse verpligtinge aangegaan is (HAT 2009:609).
    “Ooreenkoms” – Handeling wat ’n mens teenoor ’n ander bind (HAT 2009:811).

    Gegewe bostaande definisies uit die HAT wat linguisties dieselfde semantiese konnotasies het, is die outeurs van mening dat die teikenleser deur sosiolinguistiese oorwegings duidelik, en hopelik vinniger, ’n regskonnotasie met “kontrak”, eerder as “ooreenkoms”, maak.

  1. Transaksie, rente en skuldberader
    Die woorde transaksie, rente en skuldberader word deurgaans in die hervertaling gebruik, maar die vertaler probeer dit in onderskeidelik klousules 4.1, 11.1 en 23.3 van die hervertaling belig deur ’n voorbeeld of ’n kort omskrywing van die betekenis van die woorde te gee om enige vrae of onduidelikheid rondom die woorde uit te klaar: 
    transaksie: ’n Transaksie kan byvoorbeeld ’n betaling wees wat jy maak, of dit kan ’n geval wees waar jy goedere teen ’n prys koop of verkoop;
    rente: Rente is die ekstra geld wat jy moet terugbetaal wanneer jy geld geleen het, of dit is die ekstra geld wat jy by die bank verdien omdat jy jou geld in jou rekening by die bank hou; en
    skuldberader: ’n skuldberader is ’n opgeleide persoon wat mense help wat te veel skuld het en nie weet hoe om dit af te betaal nie;

5.3.2 Die gebruik van afkortings

Daar is enkele gevalle waar afkortings in die hervertaling gebruik word sonder dat dit vooraf in die dokument verduidelik of omskryf word. Die rede hiervoor is dat die spesifieke afkortings oor die algemeen bekend is. Voorbeelde hiervan is OTM en PIN. Volgens Lesch (1996:9) is dit beter om eerder die afkorting te vermy en die volle woord uit te skryf. Lesch (1996) stel voor dat geheime kode eerder as PIN gebruik word en tellermasjien of outobank eerder as OTM gebruik word. In teenstelling met hierdie moontlike vertaalopsies soos in die middel-negentigerjare voorgestel, is die skrywers van hierdie artikel egter vandag van mening dat die gebruik van PIN en OTM met verloop van tyd so algemeen bekend geraak het dat die afkortings sonder hulle volvorme gebruik kan word.

 

6. Slotopmerkings 

Hierdie studie bevestig dat Afrikaanse tegniese taal gekenmerk word deur moeilik-verstaanbare sinskonstruksies en ander leksikale en grammatikale konstruksies wat regsdokumente gevolglik ontoeganklik en onverstaanbaar vir leketeksontvangers maak. Regstaal is uitsluitend omdat die gebruik daarvan ’n magswanbalans tussen die regsdokument en die lekeleser tot gevolg het. Die gebruik van moeilik-verstaanbare regsdokumente in die verbruikersektor, soos onder andere leningsooreenkomste waarmee kwesbare verbruikers met gemiddelde geletterdheidsvaardighede en minimale ervaring van verbruikersooreenkomste gekonfronteer word, versterk die sosio-ekonomiese wanbalans wat tussen die diens- en produkverskaffer en die verbruiker bestaan. 

Die gewonetaalpraktyk en gemeenskapsvertaling, as twee komplementerende dissiplines, streef die beginsel van maatskaplike geregtigheid van doeltreffende kommunikasie na. Hierdie artikel verteenwoordig dus ’n poging om die beginsels van beide hierdie studievelde te versoen en op ’n bankteks toe te pas deur ’n hervertaling te skep in ooreenstemming met die vertaalopdrag en ’n ontledeing om dit verder te belig.

 

Bibliografie

Abrahams, E. 2003. Efficacy of plain language drafting in labour legislation. MA-verhandeling, Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie. 

Baitsewe, R., L. de Stadler en P. du Plessis. 2011. Usability testing. A report on user experience of plain language within a selection of Prudential Portfolio Managers’ official external documentation. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch Taalsentrum. 

Bernhardt, E.B. en M.L. Kamil. 1995. Interpreting relationships between L1 and L2 reading: Consolidating the linguistic threshold and the linguistic interdependence hypotheses. Applied Linguistics, 16:5–34. 

Bhatia, V.K. 1993. Analysing genre: Language use in professional settings. Londen: Longman.

Botha, W. (red.). 2003. ’n Man wat beur. ’n Huldigingsbundel vir Dirk van Schalkwyk. Stellenbosch: Buro van die WAT.

Byrne, J. 2006. Technical translation. Usability strategies for translating technical documentation. Dordrecht: Springer.

Carstens, A. 2004. Tailoring print materials to match literacy levels: A challenge for document designers and practitioners in adult literacy. Language Matters, 35(2):459–84.

Carstens, A. en M. Snyman. 2003. How effective is the Department of Health’s leaflet on HIV/AIDS counselling for low-literate South Africans? Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 10(1):112–36.

Charrow, V. 1988. Readability vs. comprehensibility: A case study in improving a real document. In Davison en Green (reds.) 1988:85–102. 

Cheek, A. 2010. Defining plain language. Clarity, 64:5–15.

Chesterman, A. (red.). 1986. Readings in translation theory. Helsinki: Oy Finn Lectura.

Combrink, J. 1992. Hoe om ’n verslag te skryf. Kaapstad: Tafelberg 

Cornelius, E. 2010. Plain language as alternative textualisation. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 28(2):171–83. 

—. 2012. ’n Linguistiese ondersoek na die verstaanbaarheid van verbruikersdokumente vir die algemene Afrikaansprekende publiek. Doktorale proefskrif, Universiteit van Johannesburg.

—. 2015. Defining “plain language” in contemporary South Africa. Stellenbosch Papers in Linguistics, 44:1–18.

—. 2016. An appraisal of plain language in the South African banking sector. Stellenbosch Papers in Linguistics, 46:25–50.

Davison, A. en G.M. Green (reds.). 1988. Linguistic complexity and text comprehension. New Jersey: Lawrence Erlbaum Associates. 

DePalma, D.A. en N. Kelly. 2008. Translation of, by, and for the people. Lowell, Massachusetts: Common Sense Advisory.

De Stadler, L.G. 2017. An evaluation of Standard Insurance Limited’s HOC policy report. Novation Consulting. Ongepubliseerde verslag.

Dollerup, C. en A. Loddegaard (reds.). 1992. Teaching translation and interpreting. Training, talent and experience. Amsterdam: John Benjamins.

Eagleson, R.D. 1990. Writing in Plain English. Canberra: Australian Government Public Service.

Esterhuyse, E. 2013. Verstaanbare vorms. ’n Lesersgerigte ondersoek na die effek van die veranderinge aan die Universiteit Stellenbosch se Afrikaanse voorgraadse aansoekvorm. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Feinauer, I. 2003. TB or not TB. The communicative success of translated medical texts in South Africa. In Botha (red.) 2003:213–27. 

Felker, D.B., F. Pickering, V.R. Charrow, V.M. Holland en J.C. Redish. 1981. Guidelines for document designers. Washington: American Institute for Research.

Fine, D. 2001. Plain language communication: approaches and challenges. In Viljoen en Nienaber (reds.) 2001:17–26.

Garner, B.A. 2009. Garner on language and writing. Chicago: American Bar Association.

Gibbons, J. 2003. Forensic linguistics: An introduction to language in the justice system. Oxford: Blackwell. 

Gibbons, J. (red.). 1994. Language and the law. Londen: Longman.

Howe, J. 2008. Crowdsourcing: Why the power of crowd is driving the future of business. Londen: Random House.

Hunt B. 2003. Plain language in legislative drafting: An achievable objective or a laudable ideal? Statute Law Review, 24(2):112–24.

Kimble, J. 1992a. Plain English: A charter for clear writing. Thomas M. Cooley Law Review, 9:1–58. 

—. 1992b. Plain English: A charter for clear writing. Part one. Michigan Bar Journal, 71:1064–7. 

—. 1992c. Plain English: A charter for clear writing. Part two. Michigan Bar Journal, 71:1190–4.

—. 1996. Notes toward better legal writing. Michigan Bar Journal, 142:1072–5.

Knight, P. 1997. Clearly better drafting: Testing two versions of the South African Human Rights Commission Act, 1995. Clarity, 38:8–12. 

Krüger, A. (red.). 1992. Changes in the translating domains. Pretoria: Unisa Press.

Lesch, H. 1996. Wie gebruik ’n OTM? SAVI-Bulletin, 6:9.

—. 1999. Gemeenskapsvertaling in Suid-Afrika. Die konteks van die ontvanger as die normeringsbeginsel. Doktorale proefskrif, Universiteit van die Wes-Kaap.

—. 2009. Die ontvanger as normeringsbeginsel vir die lesergerigte vertaalteks. Acta Academia, 41(1):144–63.

—. 2012. Gemeenskapsvertaling in Suid-Afrika. Die konteks van die ontvanger as die normeringsbeginsel. Stellenbosch: African SUNMeDIA. 

—. 2014. Vertaalpraktyke in die sosiale media: ’n Verbeterde vertaalteks vir ’n virtuele gemeenskap? Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(1):130–42. 

Luttig, L. 2003. Die tekskwaliteit van vertaalde mediese tekste met Afrikaans as doeltaal. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Malley, Y. 1994. The language of the law. In Gibbons (red.) 1994:11–50. 

Malmkjaer, K. en K. Windle (reds.). 2011. The Oxford handbook of translation studies. Oxford: Oxford University Press. 

Nida, E. en C.R. Taber. 1982. The theory and practice of translation. Leiden: Brill.

Nienaber, A. 2001. The accessibility and comprehensibility of South Africa’s Bill of Rights: An empirical study. De Jure, 34(1):113–5.

Nord, C. 1992. Text analysis in translation training. In Dollerup en Loddegaard (reds.) 1992:39–48.

—. 1997. Translation as a purposeful activity. Functionalist approaches explained. Manchester: St. Jerome.

—. 2005. Text analysis in translation: Theory, methodology and didactic application of a model for translation-oriented text analysis. 2de uitgawe. Amsterdam: Rodopi.

—. 2006a. Translation as purposeful activity. A prospective approach. TEFLIN Journal, 17(2):131–43.

—. 2006b. Translating for communicative purposes across culture boundaries. Journal of Translation Studies, 9(1):43–60.

Odendal, F.F. en R.H. Gouws 2009. Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) Kaapstad: Pearson.

Pienaar, M. 2006a. Die sekuriteitswag, my finansiële adviseur. Tydskrif vir Taalonderrig, 43(1):135–45.

—. 2006b. The use of plain language – not that simple. Tydskrif vir Taalonderrig, 36(1/2):146–50. 

Pienaar, M. en S. Slabbert. 2002. Determining the appropriate code in a South African business environment. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 20(4):263–70. 

PLAIN (Plain Language Action and Information Network). 2011. Federal Plain Language Guidelines. Maart; hersiening 1 Mei. https://plainlanguage.gov/media/FederalPLGuidelines.pdf (23 Oktober 2017 geraadpleeg).

Ponelis, F.A. 1979. Afrikaanse sintaksis. Pretoria: Van Schaik.

Pretorius, E.J. en D.M. Mampuru. 2007. Playing football without a ball: Language, reading and academic performance in a high-poverty school. Journal of Research in Reading, 30(1):38–58.

Rheingold, H. 2000. The virtual community: Homesteading on the electronic frontier. Cambridge, MA: MIT Press.

Reiss, K. en H. Vermeer. 1984. Grundlegung einer allgemeinen Translationstheorie. Tübingen: Max Niemeyer Verlag.

Schriver, K.A. 1997. Dynamics of document design. New York: John Wiley & Sons Inc.

Siebörger, I. en R.D. Adendorff. 2012. Can contracts be both plain and precise? Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 29(4):483–504.

Siegrühn, A. 1992. Community translation. In Krüger (red.) 1992:33–5.

StatsSA. 2016. Sensus. Huishoudelike opname. Pretoria: StatsSA.

Stewart Smith, A. 1999. A linguistic and discourse analysis of legal language: The right to understand legal texts and methods of rewriting them. Doktorale proefskrif, Universiteit van Kaapstad.

Taibi, M. 2011. Public service translation. In Malmkjaer en Windle (reds.) 2011:214–27.

Taibi, M. en U. Ozolins. 2016. Community translation. Londen: Bloomsbury.

Toury, G. 1980. In search of a theory of translation. Tel Aviv University: The Porter Institute for Poetics and Semiotics.

Van Schouwenburg, R.B. 2004. Die implementering van taalbeleid aan finansiële instellings. MA-verhandeling, Randse Afrikaanse Universiteit.

Vermeer, H. 1986. Skopos and commission in translational action. In Chesterman (red.) 1986:173–87.

Viljoen, F. en A. Nienaber (reds.). 2001. Plain legal language for a new democracy. Pretoria: Protea Boekhuis. 

Zhang, J. 2007. On translation variation theory. M-verhandeling, Universiteit van Ningxiais, Beijing.

Wette

Maatskappywet 71 van 2008. http://pmg-assets.s3-website-eu-west-1.amazonaws.com/bills/090408a71-08.pdf (3 November 2015 geraadpleeg).

Nasionale Kredietwet 34 van 2005. http://www.thenct.org.za/wp-content/uploads/2017/07/nca.pdf (20 Oktober 2015 geraadpleeg).

Wet op Verbruikersbeskerming 68 van 2008. http://www.thenct.org.za/wp-content/uploads/2017/07/cpa.pdf (20 Oktober 2015 geraadpleeg).

 

Eindnotas 

1 Generiese leser/verbruiker verwys na die gewone man op straat – die leek met beperkte kennis oor ’n bepaalde veld of dissipline. Dit behels verder dat die generiese leser se taalvermoëns beperk is en dat ’n toeganklike vertaalteks benodig word. 

2 Die artikelskrywers het om verstaanbare redes besluit om die besonderhede van die betrokke bank nie in die artikel te vermeld nie.

3 Ons verwys graag na Cornelius (2012) vir omvattende werk oor gewone taal. Verder volstaan ons met die onderstaande twee definisies van gewone taal (“plain language”): 

In short it is the opposite of gobbledegook and of confusing and incomprehensible language. Plain English is clear, straightforward expression, using only as many words as are necessary. It is language that avoids obscurity, inflated vocabulary and convoluted sentence construction. It is not baby talk, nor is it a simplified version of the English language. (Eagleson 1990:4) 

[P]lain language [is] accessible, user-friendly, understandable and informative. It is characterised by a lucid and well-organised structure; by a clear and user-friendly lay-out and design for written materials and visuals. When spoken, it is presented with back-ups and appropriate and user-friendly tone and body language. (Fine 2001:19–21)

4 Daar is basies twee standpunte ten opsigte van gemeenskapsvertaling. Volgens die eerste standpunt is die bronteksleser (BT-leser) en die doelteksleser (DT-leser) nie noodwendig op dieselfde geletterdheidsvlak nie (Lesch 2009; 2012; 2014). Hierdie perspektief fokus op daardie deel van die samelewing wat uitgesluit is van die hoofstroomontwikkeling. Taibi en Ozolin (2016) sluit ook hierby aan in hulle definiëring van gemeenskapsvertaling. In wese is dit ’n vertaalaktiwiteit wat gerig is op die prioriteite van die gemeenskap. Onder meer kan die volgende tipes onderskei word:

  1. ’n Nieparallelle vorm van vertaling, waar die BT-leser hoër geskoold is as die potensiële DT-leser.
  2. ’n Parallelle vorm van vertaling van gemeenskapstekste, waar die BT-leser en DT-leser talig op dieselfde vlak is; vgl. veral instansies wat dienste aan die gemeenskap lewer, soos die poskantoor, banke, hospitale, vakbonde, ens.
  3. Die gemeenskapsvertaalbenadering, ’n vertaalbenadering waar die behoeftes van die talig benadeeldes geprioritiseer word. Binne so ’n benadering kan onder meer terme en begrippe in die DT omskryf en verklaar word, alhoewel dit nie die geval in die BT is nie.

Binne die konteks van hierdie artikel word aan bostaande standpunt voorkeur verleen.

’n Tweede standpunt is dat internetgebruikers saamspan binne die spangees van ’n “virtuele gemeenskap” – die kollektief van mense wat in sosiale interaksie verkeer of van aanlyn hulpbronne gebruik maak (Rheingold 2000). Vir hierdie vertaalhandeling gebruik Howe (2008) die terme crowdsourcing en crowdsourced translation (massadeelvertaling). Daar word gesteun op die insette van die virtuele massa om die vertaling te doen. Dit is ’n vertaalmodel waar medewerkers, wat nie noodwendig ’n vertaalagtergrond het nie, gebruik word in plaas van, of in samewerking met, professionele vertalers. DePalma en Kelly (2008) noem hierdie vertaalhandeling gemeenskapsvertaling.

5 Om praktiese redes (omdat dit te lank is) word die volledige BT, DT1 en DT2 nie in ’n addendum ingesluit nie, maar dit is beskikbaar indien die leser insae daarin wil hê.

6 Die numerering van die BT-dokument verskil van dié van die bestaande DT. 

7 Die misindeks soos bepaal deur die sinslengte en meerlettergrepige woorde bied volgens Combrink (1992, Bylae 3:2) die volgende skaal vir die evaluering van algemene tekste: 5: taamlik maklik; 7 of 8: standaard; 9–11: taamlik moeilik; 12–15: moeilik; 16+: baie moeilik.

8 Sien ook Lesch (2012:159) vir opmerkings oor norme vir gemeenskapsvertaling.

9 Sien in hierdie verband die Nasionale Kredietwet 34 van 2005 en die Wet op Verbruikersbeskerming 68 van 2008, asook die Maatskappywet 71 van 2008.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Gemeenskapsvertaalpraktyk: Gewone taal vir die hervertaling van ’n bankteks appeared first on LitNet.

Die invloed van plek en ruimte op die identiteitskonstruksie van vrouemigrante binne die Suid-Afrikaanse konteks na aanleiding van Zebra crossing (2013) deur Meg Vandermerwe

$
0
0

Die invloed van plek en ruimte op die identiteitskonstruksie van vrouemigrante binne die Suid-Afrikaanse konteks na aanleiding van Zebra crossing (2013) deur Meg Vandermerwe

Marietjie Lambrechts, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 17(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Migrasie uit ander Afrikalande na Suid-Afrika neem toe as gevolg van onder andere konflik tussen etniese groepe, natuurrampe, armoede, siektes, hongersnood en werkloosheid. Alhoewel vroue ’n belangrike komponent van die statistiek oor migrantegetalle uitmaak, is die unieke aanpassingsprobleme wat vroue as gevolg van die migrasieproses ervaar, tot onlangs toe nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd in migrantestudies geïgnoreer. Om die komplekse gelaagdheid van geslag in migrerende omstandighede te verstaan, moet migrasie in ’n veel wyer konteks as wat tans die geval is, ontledend en empiries bestudeer word. Benewens sosiologiese en ekonomiese studies oor die onderwerp kan migranteliteratuurtekste ’n belangrike bydrae lewer, omdat dit reflekteer op eksistensiële uitdagings in multikulturele en meertalige kontekste binne ’n bepaalde ruimte. Hierdie artikel wil teen die agtergrond van bestaande literatuur oor die onderwerp aandui hoe ’n literêre teks juis hierdie funksie kan vervul. Vir hierdie doel is Zebra crossing, ’n migranteliteratuurroman deur Meg Vandermerwe wat in 2013 verskyn het, as vertrekpunt gekies. Die roman slaag by uitstek daarin om die unieke uitdagings, ten nouste verbonde aan plek en ruimte waarmee migrantevroue in Suid-Afrika gekonfronteer word, op die voorgrond te plaas. Hierdie uitdagings korreleer direk met die aanpasbaarheid (al dan nie) binne gasheerlande. Wat uit die artikel blyk, is dat ervarings binne ’n spesifieke plek en ruimte ’n wesenlike invloed op die identiteitskonstruksie van vrouemigrante het. Die artikel dui ook aan dat die kruisbestuiwing tussen ’n literêre teks en verskillende vakdissiplines nie alleen lei tot ’n beter interpretasie van die literêre teks nie, maar ook ’n wesenlike bydrae tot die betrokke vakdissipline(s) lewer.

Trefwoorde: geslag; ideologie; kollektiewe identiteit; magsverhoudings; migranteliteratuur; migrantevroue; migrasie; persoonlike identiteit; plekbewustheid; plekgebondenheid

 

Abstract 

The influence of place and space on the identity construction of female migrants within the South African context with reference to Zebra crossing (2013) by Meg Vandermerwe

Migration from African countries to South Africa is on the increase as a result of, among other things, conflict between ethnic groups, natural disasters, poverty, disease, famine and unemployment. Although women form an important component of the statistics on migrant numbers, the unique problems of adjustment experienced by women as a result of the migration process have until recently been ignored in migrant studies not only in South Africa, but also worldwide. To understand the complex layers of gender in migratory conditions, migration needs to be studied analytically and empirically in a much broader context than is currently the case. Apart from sociological and economic studies on the subject, migrant literature texts can make an important contribution because literary texts reflect on existential challenges in multicultural and multilingual contexts within a particular space. Against the background of existing sociological and economic literature on the subject, this article aims to indicate how a literary text can eminently fulfil this function.

To this end, Zebra crossing, a migrant literary novel by Meg Vandermerwe, which was published in 2013, was chosen as the starting point. As a non-migrant writer, Vandermerwe gives voice to migrant women who, for a variety of reasons, do not have the ability to communicate their own experiences. The novel is particularly successful in highlighting the unique challenges closely linked to the place and space migrant women are confronted with in South Africa. These challenges correlate directly with their adaptability (or otherwise) in host countries because place and space are inextricably linked to the formulation of both a cultural and a personal identity construction. 

Place identity, defined by Prohansky, Fabian and Kaminoff (1983) as a potpourri of memories, conceptions, interpretations, ideas, and related feelings within a particular space, forms the cognitive database underlying the formation of a group’s cultural identity construction. This cognitive database is created through exposure to a particular value system and behavioural patterns, as developed and embedded within a particular cultural orientation within a geographical space. Place and space in terms of identity formulation are therefore nothing but social categories with a shared social meaning as a result of the interaction between members of a group.

Behavioural patterns resulting from a collective identity are consciously maintained and sanctioned by means of power relationships. Power manifests on the one hand in clearly discernible ways through statutory laws and penalties. On the other hand it is enforced through a conditioning process and maintained by generally accepted social practices, underpinned by a particular cultural, religious or ideological orientation. Bourdieu (1991) illustrates how a particular cultural orientation has the power to structure, condition and enforce certain practices in everyday life through subjective experiences he calls habitus. This concept encompasses the subjective experiences of an individual when external power structures are internalised and, without questioning, become part of the individual’s frame of reference in an almost natural way. This includes discrimination due to racism, sexism, gender, and physical abnormalities that marginalise people.

From the definition of Prohansky et al., place identity, comprising two interdependent but distinct concepts, namely place attachment and place awareness (a sense of a place), develops. Through place attachment an individual develops a deeply rooted emotional connection with a place, “a sense of belonging”. This is underpinned and affirmed by a specific value system and/or underlying ideology that is accepted, maintained and lived by the specific group occupying the geographical space without questioning.

Place awareness is related to an individual’s experience(s) in a particular place or space. These experiences, which also include emotional connections, are directly linked to the awareness of a place within a particular cultural, historical and spatial context. It also includes constructed socially and culturally shared meanings. Place, therefore, is not only a physical space within which interaction among members of a particular cultural group takes place, but also the manifestation of personal and collective identity formation, a way in which the individual experiences and understands the world in which she/he lives.

Place awareness really comes to the fore only when the living space or cultural identity of the group to which the individual belongs is challenged for some reason. Migrants who have exchanged the familiar space of their homeland for another, foreign or conflicting, cultural orientation in the host country become acutely aware of the new space or place. Where place awareness in the first phase of a personal identity construction is related to security and a general sense of well-being, the migrant experiences spaces and places in the host country as hostile and unaccommodating. This correlates directly with views of the “self” and the so-called “other”. The combination of these two processes results in a sense of being different, an acknowledgment of “the other”, and the recognition of one’s own otherness and consequent mechanisms of inclusion and exclusion, which in turn are maintained by public policy and the everyday actions of residents.

Private and public spaces are social constructs that conceptualise different domains of daily life. Social constructs are always intertwined with concepts such as power, subjectivity, gender, class, cultural orientation, and individual preferences and perceptions. Therefore, a space can never only be public or private, but overlaps on a variety of levels. Both migrants and the indigenous population are confronted with other cultural orientations that are foreign territory to both groups. Adjustments to an already formed identity construct and personal conditions must be negotiated anew within a different social context, institutional frameworks and relationships, not only at the personal level, but also within the broader public context in host countries. Migrants who fail to make the necessary adjustments to an already formed personal identity construct organise themselves into separate groups on the fringes of the community. Resistance against these islands of otherness in host countries makes assimilation of migrants into indigenous communities virtually impossible and indigenous citizens respond with suspicion, fear or violence. The way this conflict is handled has far-reaching implications for the host country.

Female migrants entering public spaces are often victims of discrimination, stereotyping or insults by not only members of the dominant group in the host country, but also other male migrants. In many cases the intimate interior space of a private home does not provide a safe haven either, as it is often the place where a female migrant is exposed to gender discrimination and/or domestic violence.

Memories and imagined spaces play an important role in cases where migrants are unable to adapt to host countries. Experience and interpretation of circumstances in the host country are interlinked with past events. For migrants in distressed situations, place awareness includes a return to the place(s) with which a particular emotional bond was formed, in an attempt to find new meanings. 

Zebra crossing by Meg Vandermerwe specifically highlights the vulnerability of female migrants in host countries when they cannot escape culture-oriented discrimination. Her “place” in this sense spans all the different spheres of social categorisation in the country of origin as well as in the host country that influence or has influenced her personal identity construction. Therefore, women migrants rarely succeed in adjusting to an already established identity construct in the host country. Additional problems such as the challenges of clashing cultures, poverty, social isolation, limited rights to negotiate problems in the workplace, poor access to health services, domestic violence, hate speech, xenophobia, insults, and various forms of discrimination leave her helpless, stripped of human dignity and unwelcome in a country in which she has placed her hope for better living conditions.

What becomes clear from the article is that the effect of migration penetrates and influences the intimate dimensions of women migrants’ personal lives. These include emotions, feelings, strategies of self-presentation, social interaction and the ability to determine their own destiny. The unique challenges and associated problems such as, among other things, sexism, racism and the legacy of colonialism that she must face due to migration can no longer be overlooked in migrant studies. The article also indicates that the cross-pollination between a literary text and different subject disciplines not only leads to a better interpretation of the literary text, but also makes a significant contribution to the relevant discipline(s). 

Keywords: collective identity; gender; ideology; migrant literature; migrant women; migration; personal identity; place attachment; place awareness; power relations

 

1. Inleiding

Die impak van migrasie wêreldwyd moet nie onderskat word nie. Vlugtelinge, asielsoekers en onwettige migrante plaas nie alleen ’n ekstra las op ekonomiese bronne binne gasheerlande nie, maar verskillende kulturele oriënterings en verwysingsraamwerke bied bykomende uitdagings. In die lig hiervan hanteer baie gasheerlande migrasie as ’n destabiliserende faktor wat streng gereguleer moet word.

Reeds vir die laaste paar dekades is min of meer die helfte van alle migrante wêreldwyd vroue. (Piper 2009:3). Desnieteenstaande word migranteproblematiek, op enkele uitsonderings na, uitsluitlik deur ’n manlike lens bestudeer (Andall 2018:4; Antman 2018a:731, 737; Mbiyozo 2018:3; Ladele en Omotayo 2017:53; Fleury 2016:1; Memela 2014:3; Pessar en Mahler 2003:812). Trouens, daar is aanduidings dat lande wat oor geslagsonderskeidende migrasiedata beskik oor die afgelope jare eerder afgeneem as toegeneem het (Fleury 2016:1). Redes is uiteenlopend, maar hang veral saam met ’n kapitaalgerigte model wat ekonomiese faktore as die oorwegende rede vir migrasie na gasheerlande uitsonder (Antman 2018b:16; Fleury 2016:1). Alhoewel min navorsingsresultate beskikbaar is, word aanvaar dat vroue, in sowel lande van oorsprong as in gasheerlande, op ’n heel ander manier as mans deur die migrasieproses beïnvloed word, veral op liggaamlike en emosionele vlak (Antman 2018b:16; Krummel 2014:724; Piper 2009:7). Geslagsneutrale uitgangspunte verhoog die kwesbaarheid van migrantevroue, omdat hul unieke omstandighede en gepaardgaande probleme soos onder andere seksisme, rassisme en die nalatenskap van kolonialisme nie in ag geneem word binne die groter magstrukture nie (Krummel 2014:721; Piper 2009:12).

Om die komplekse gelaagdheid van geslag in migrerende omstandighede te verstaan, moet migrasie in ’n veel wyer konteks as wat tans die geval is, ontledend en empiries bestudeer word. Hierin kan literêre tekste ’n besondere bydrae lewer, veral werke met eksistensiële uitdagings in multikulturele en meertalige kontekste as tema(s). Op persoonlike vlak word die nuanses, kompleksiteite en teenstrydighede wat migrante en inwoners van gasheerlande daagliks ervaar, belig. ’n Literêre teks wat fokus op die unieke ervarings van vrouemigrante illustreer die gekombineerde effek wat onder andere geslag, etnisiteit, regstatus, wyses van binnekoms en kulturele oriëntering op die identiteit van vroue in die besonder het.

Die invloed van plek en ruimte op die vorming van kollektiewe en persoonlike-identiteitskonstruksies word lank reeds in identiteitstudies verreken, maar ontvang nie veel aandag in migranteliteratuurstudies nie. Hierdie artikel wil aan die hand van Zebra crossing deur Meg Vandermerwe (2013) die unieke en eiesoortige probleme wat vroue in die verskillende ruimtes of plekke waarin hulle hul gedurende die migrasieproses bevind, ondersoek en in die kollig plaas. Onlangse gevallestudies, gebaseer op persoonlike onderhoude met vrouemigrante uit Afrikalande waarin spesifiek gefokus is op hul ervarings in Suid-Afrika na migrasie, dien as agtergrond vir hierdie studie (Mbiyoza 2018; Memela 2014; Kihato 2013; Wanka 2008).

 

2. Migranteliteratuur

Die wetenskaplike diskoers oor migranteliteratuur het die afgelope twee dekades aansienlik verander. Afkoms van die skrywer, sy of haar status as migrant, persoonlike ervarings, die oorsteek van kulturele grense en die taal waarin die literêre werk aangebied word, was aanvanklik deurslaggewende parameters (Lambrechts 2019). Onlangse definisies van die genre fokus op migrante-ervarings, ongeag of die skrywer self ’n migrant is al dan nie. Niemigrante-skrywers slaag dikwels daarin om stem te gee aan individue wat ’n vastrapplek in ’n toenemend globaliserende wêreld probeer vind, maar om ’n verskeidenheid redes nie oor die vermoë beskik om self hul ervarings te kommunikeer nie (Perl 2019:18).

Alhoewel daar toenemend migranteliteratuurtekste in Suid-Afrika verskyn, is die genre nog nie ingeburger in die Afrikaanse literêre sisteem nie. In hierdie opsig lewer ’n teks soos Zebra crossing ’n belangrike bydrae, nie alleen tot migranteproblematiek in die algemeen nie, maar tot die spesifieke fokus op die lot van vrouemigrante in Suid-Afrika.

Die roman vertel die verhaal van Chipo Nyamubaya en haar broer George wat uit Zimbabwe na Suid-Afrika migreer. Op die vooraand van die Wêreldbekersokkertoernooi stroom migrante uit die sub-Saharastreek na die land om te deel in die ekonomiese voordele wat almal voorspel. In President’s Heights, ’n vervalle woonstelblok in een van Kaapstad se krotbuurte met uitsluitlik migrante as inwoners, deel Chipo en haar broer ’n enkelkamer en badkamer met twee volwasse mans. Sokkerkoors, deel van die herinneringe aan haar ma wat ’n fanatiese Manchester United-ondersteuner was, laat Chipo op ’n manier berus in die haglike omstandighede waarin sy haar bevind. Sy leef met die verwagting dat sy en George binnekort na Zimbabwe sal kan terugkeer – Suid-Afrika lewer nie die melk en heuning waarop sy gehoop het nie. Uiteindelik verloor Chipo alle hoop dat haar lewensomstandighede ooit sal verbeter. As vrou, ’n persoon met albinisme en ongewenste migrant word sy die slagoffer van meervoudige diskriminasie (Bradbury-Jones 2018:3). Die sogenaamde Moederstad wat volgens die naam daarvan veronderstel is om al sy inwoners te omarm, bied geen tuiste, geen sekuriteit, geen erkenning en geen aanvaarding nie. Inteendeel, Kaapstad word die plek waar Chipo nie alleen haar menswaardigheid verloor nie, maar ook haar emosionele en fisieke lewe.

 

3. Geslags- en magsverhoudings

Geslag is een van die oudste kragte wat gebruik word om mense se lewens te beheer en te vorm. Dit is niks anders as ’n struktuur van geïnstitusionaliseerde sosiale verhoudings wat deur die skepping en manipulering van geslagskategorieë magsposisies aandui en organiseer nie (Pessar en Mahler 2003:813). Die belangrikste aspekte van ’n individu se lewe, insluitend seks, familiebande, opvoeding, ekonomiese deelname en die staat, word georganiseer ooreenkomstig geslagsbeginsels en is deurspek met konflikskeppende belange en hiërargieë van mag en voordele. Die aanvaarding dat geslag ingebed is in magshiërargieë lê die fondament vir strukturele faktore wat geslagsverhoudings saam met ideologiese faktore beheer en in stand hou. Dit kruis ook met ander sosiale verhoudings soos klas, status, etnisiteit, religie, en lewens- en wêreldbeskouing. Al hierdie faktore vorm ’n komplekse gelaagdheid met ’n eie dinamika van insluiting en uitsluiting (Piper 2009:1). 

Geslagsrolle beïnvloed geslagshiërargieë in lande van sowel vertrek as aankoms en dit is vanselfsprekend dat dit ’n beduidende invloed op die lewens en ervarings van migrante sal hê. Indien kultuurgeoriënteerde diskriminasie teen vroue in die land van oorsprong geld, word dit in die gasheerland voortgesit (Andall 2018:6). So byvoorbeeld beperk ’n kulturele oriëntering of ideologiese verwysingsraamwerk vroue se keuse om te migreer al dan nie. In ’n patriargale sisteem word vroue dikwels teen hulle sin deur hul eggenote of ander manlike lede van hul naby familie gedwing om te migreer. Ekonomies afhanklike vroue migreer gewoonlik om by hul mans aan te sluit en die gesin te herenig. In Zebra crossing het Chipo geen ander keuse as om haar broer sonder enige teenspraak te gehoorsaam nie: “Borders rhymes with orders. You follow your brother’s orders. You have no choice” (3). In Zimbabwe het sy grootgeword in ’n diskriminerende kultuursisteem waarin op vroue neergesien word. Gelate aanvaarding van die status quo lei tot haar verskriklike lot en ondergang.

Vir vroue wat uit vrye keuse na gasheerlande migreer, is migrasie geen waarborg dat hulle geslagsdiskriminasie sal vryspring nie. Jong vroue en meisies word deur gewetenlose misdadigers gewerf met die belofte van werksgeleenthede en beter lewensgehalte in gasheerlande (Jolly en Reeves 2005:17). Ongelukkig word hierdie vroue dikwels vasgevang in gedwonge arbeidspraktyke, gedwonge huwelike, prostitusie, huiswerk of ander soortgelyke vorme van uitbuiting (Andall 2018:8, 17, 19, 21). In Zebra crossing word Chipo aan soortgelyke uitbuiting blootgestel. Sy kry aanvanklik werk by ’n ander migrant wat haar menswaardigheid respekteer, maar word deur haar broer gedwing om deel te word van ’n onheilige dobbelsindikaat. Hy onderwerp haar sonder om ’n oog te knip aan die uiterste vorme van diskriminasie, uitbuiting en onderdrukking. Vir haar broer is sy niks anders as ’n handelsartikel wat hy na willekeur kan verhandel wanneer dit hom pas nie. Terwyl George en Dr. Ongani onderhandel oor Chipo se pligte in hul gesamentlike besigheidsproposisie, sit sy eenkant en brei: “No one addresses me directly. As usual, I am not part of the negotiations” (113). Al wat van haar verwag word, is om te doen wat aan haar gesê word: “‘She has no brain for business’ my brother interrupted. ‘Just do what we tell you. OK Tortoise?’” (122). As sy nie doen wat van haar verwag word nie, klap George haar deur die gesig, en haar bril, waarsonder sy glad nie kan sien nie, val stukkend op die vloer. In plaas daarvan om haar te beskerm laat George vir Chipo aan haar eie lot oor (133).

 

4. Ideologiese magsverhoudings 

Wat magsverhoudings aanbetref, maak Pessar en Mahler (2003:815) ’n onderskeid tussen die liggaam, die familie (gemeenskap) en die staat. Dit is juis binne die wisselwerking tussen liggaam, familie en staat dat geslagsideologieë en -verhoudings bevestig en/of verander word. Mag kan enersyds op duidelik waarneembare wyses manifesteer deur middel van statutêre wette en strafmaatreëls. Andersyds kan dit deur ’n kondisioneringsproses afgedwing en in stand gehou word deur algemeen-aanvaarde sosiale praktyke, onderlê deur ’n bepaalde kulturele of ideologiese oriëntering. Bourdieu (1991:12) illustreer hoe ’n bepaalde kulturele oriëntering die mag het om te struktureer, te kondisioneer en sekere praktyke af te dwing in die alledaagse lewe deur middel van subjektiewe ervarings wat hy die habitus noem. Vir hom omvat hierdie begrip die subjektiewe ervarings van ’n individu wat tot stand kom wanneer eksterne magstrukture geïnternaliseer en sonder bevraagtekening op ’n byna natuurlike manier deel word van ’n individu se verwysingsraamwerk. Habitus omskryf dus die geïnternaliseerde gebruike, rituele, tradisies, oortuigings en gewoontes wat tot uiting kom in die alledaagse lewenswyse van die sosiale groep. Dit dui daarom nie alleen verskille tussen mense aan nie, maar word ook gebruik om ’n individu, of groep individue, te beheer en te kategoriseer. Wat Bourdieu met sy begrip habitus wil suggereer, is dat sosiale posisies ’n belangrike deel van magstrukture is waardeur mense se keuse-uitoefening en handelingsbevoegdheid aan bande gelê word. Dit omskryf die wyse waarop individue ander se lewens en ervarings beheer en beperk deur hulle te dwing tot ’n lewenswyse waaroor hulle min of geen beheer het nie (Bourdieu 1991:13). Hieronder tel diskriminasie as gevolg van rassisme, seksisme, geslag, liggaamlike abnormaliteite soos albinisme, ens. wat mense marginaliseer. Chipo aanvaar van huis uit haar ondergeskikte posisie, nie net as vrou nie, maar ook vanweë haar voorkoms as albino. Nie alleen verlaat haar pa die huis na haar geboorte nie, maar ook noem haar broer haar allerhande vernederende name. So byvoorbeeld sê Chipo: “It is my job to listen. When I am not scrubbing, or sweeping. But most of all it is my job to obey” (4). Geen opinie van haar word waardeer nie (125). 

In teenstelling met ’n natuurlike kondisioneringsproses waar ’n bepaalde kulturele oriëntering van ’n spesifieke groep op ’n “natuurlike” wyse die persoonlike identiteitskonstruksie van ’n individu beïnvloed, berus ideologiese magsverhoudings op ’n bewuste denkpatroon, teorie of oortuiging wat deur die dominante groep binne ’n bepaalde ruimte afgedwing en in stand gehou word. Hierdie idee, of oortuiging, sypel die lede van die dominante groep met verloop van tyd byna onopsigtelik binne en word mettertyd saam met ’n bepaalde kulturele oortuiging as die norm vir aanvaarbare gedrag aanvaar. Gedragspatrone wat hieruit voortvloei, word bewustelik deur lede van die dominante groep gesanksioneer deur middel van religieuse, sosiale en statutêre voorskrifte. Chipo se selfbeeld en persoonlike identiteit is direk gekoppel aan die menings oor haar van ander in die sosiale gemeenskap waarin sy grootgeword het. In die klein Zimbabwiese dorpie is sy die voorwerp van spot, diskriminasie, heksery (namphweris) en ander bygelowe. Selfs vir die “vriendelike” pastoor is haar voorkoms ’n onheilsteken (58). In die gasheerland verander hierdie vooroordele nie. Sy aanvaar gelate dat sy ook hier as buitestander gebrandmerk sal word, maar meer nog, dat sy die slaaf van alle mans is, dat hulle ingrypende besluite oor haar kan neem, bloot omdat sy ’n vrou is. 

Persepsie van die vroulike liggaam as ’n ingeperkte ruimte onder beheer en tot voordeel en plesier van die man korreleer direk met haar posisie as ondergeskikte in die gemeenskap (Bourdieu 1991:63). Chipo is so gekondisioneer deur geïnternaliseerde gebruike en die kulturele siening betreffende die vroulike liggaam dat sy sonder teenstand toelaat dat haar broer, maar ook ander mans, haar liggaam skend en misbruik. Aanvanklik sny George net ’n stukkie hare af (127), maar later word Julius se opmerking waar (122). Haar liggaam word opgesny om as muti verkoop te word. 

In die afwesigheid van ander vroue wat hulle in dieselfde ondergeskikte posisie bevind, is ’n vrouemigrant geïsoleer en gemarginaliseer omdat sy, of haar posisie, nie aanvaarbaar is in ’n breër gemeenskap van die gasheerland nie. Hierdie faktore speel ’n fundamentele rol in vrouemigrante se ervaring van ’n “sense of belonging”, ’n gevoel van behoort, ’n noodsaaklike parameter vir die konstruering van ’n persoonlike identiteit (Krummel 2014:721). Wanneer Chipo op die vyfde verdieping van President Heights opgesluit is en aan die ergste vorm van isolasie onderwerp word, sê sy: “Every day that I am locked away, I feel myself fading, disappearing” (128). Totale afsondering laat haar byna haar eie naam vergeet en sy herinner haarself: “Just remember who you are. Remember, Mama. Remember before” (133).

 

5. Die invloed van plek en ruimte op die vorming van identiteitskonstruksies

Plek en ruimte is onlosmaaklik verbonde aan die formulering van sowel ’n kulturele as ’n persoonlike identiteitskonstruksie (Ujang en Zakariya 2015; Krummel 2014:722; Viljoen, Lewis en Van der Merwe 2004:12). Met verwysing na die genius loci of gees van ’n plek, asook Heidegger (1962) se definisie van plek as “being in the world”, definieer Prohansky, Fabian en Kaminoff (1983:60) plek-identiteit as ’n potpourri herinneringe, konsepsies, interpretasies, idees en verwante gevoelens (persepsies) binne ’n spesifieke ruimte. Plek-identiteit is met ander woorde ’n kognitiewe databasis waarteen elke fisiese omgewing ervaar word. Hierdie kognitiewe databasis kom tot stand deur blootstelling aan ’n bepaalde waardesisteem en lewenswyse soos ontwikkel en vasgelê deur ’n bepaalde kulturele oriëntering binne ’n geografiese ruimte. Historiese ondervindings asook gesamentlike kulturele en simboliese kodes voorsien die groep van ’n stabiele, onveranderbare en voortgesette verwysings- en betekenisraamwerk (Wasserman 2000:97). Plek en ruimte in terme van identiteitsformulering is dus niks anders as sosiale kategorieë met ’n gedeelde sosiale betekenis as resultaat van die interaksie tussen lede van ’n groep nie. Hier word onder andere verwys na geslagsdiskriminasie en ander sosiale klasseverskille wat binne ’n kollektiewe groep aanvaarbare gedrag is.

’n Persoonlike identiteitskonstruksie is ingebed in die kognitiewe databasis van die kollektiewe groep waartoe die individu behoort en kan nie onafhanklik daarvan bestaan nie. Dit verskaf aan individue belangrike bevoegdhede en bekwaamhede om kontinuïteit en vastigheid in hul lewens te verseker (Van Alphen 1991:4). ’n Persoonlike identiteit beïnvloed die individu se siening van haarself, die vorming van ’n bepaalde lewensuitkyk, ’n evaluering van heersende omstandighede waarbinne sy haar bevind, asook haar houding en optrede binne private en openbare ruimtes. Hall (1998:2) verwys na hierdie fase van identiteitskonstruksie as ’n min of meer statiese verwysingspunt, ’n stabiele basis waarvandaan ’n individu veranderde omstandighede waaraan sy blootgestel mag word, interpreteer. Veranderings aan individuele identiteitskonstruksies word vanuit hierdie vaste verwysingspunt gestuur. Konstruering van ’n identiteit kan nooit in ’n lugleegte plaasvind nie (Malpas 2018:12).

Uit Prohansky e.a. se definisie van plek-identiteit ontwikkel twee interafhanklike, maar afsonderlike begrippe, naamlik plekgebondenheid (place attachment) en plekbewustheid (a sense of place). Beide begrippe is onontbeerlik om die verwantskap tussen plek/ruimte en die formulering van nuwe of aangepaste identiteitskonstruksies in migranteliteratuur aan te dui.

Malpas (2018:8) merk in hierdie verband op:

[I]t is not merely human identity that is tied to place, but the very possibility of being the sort of creature that can engage with the world (and more particularly, with the objects and events within it) that can think about the world, and that can find itself in the world.

Malpas (2018:12) beklemtoon die direkte verband tussen ’n bepaalde plek en ’n individu se interaksie met ander binne sy onmiddellike omgewing wanneer hy sê:

The way in which human identity might be tied to place is thus indicative of the fundamental character of our engagement with the world – of all our encounters with persons and things – as always “taking place” in place.

Low (1992:165) definieer plekgebondenheid as die 

symbolic relationship formed by people giving culturally shared emotional/affective meanings to a particular space or piece of land that provides the basis for the individual’s and group’s understanding of and relation to the environment. Place attachment is more than an emotional and cognitive experience, and includes cultural beliefs and practices that link people to place.

In hierdie definisie is plek integraal deel van die persoonlike geskiedenis en word dit omskryf in terme van ’n verhouding wat tot stand kom wanneer individue ’n diep emosionele verbintenis met ’n plek ontwikkel het, ’n gevoel van behoort. Dit is veel eerder ’n intuïtiewe as ’n emosionele, kognitiewe of materiële verbintenis.1 Die individu is onder hierdie omstandighede so gemaklik met hom- of haarself binne die groep en sy of haar eie persoonlike leefruimte dat die heersende waardesisteem of onderliggende ideologie sonder bevraagtekening aanvaar word. Plekgebondenheid korreleer dus direk met krities belangrike parameters vir die vorming van ’n persoonlike identiteitskonstruksie. Die belang van hierdie korrelasie word bevestig deur die feit dat migrante, selfs in gevalle waar hulle daarin kon slaag om in ’n gasheerland aan te pas, altyd bly hunker om na die land van oorsprong terug te keer (Morris 1998:1126; Vandermerwe 2013:108).

Plekbewustheid hou verband met ’n individu se ervaring(s) in ’n spesifieke plek of ruimte en is daarom uiters persoonlik van aard. Hierdie ervarings, wat ook emosionele verbintenisse insluit, word direk gekoppel aan sowel die bewustheid van ’n plek binne ’n bepaalde kulturele, historiese en ruimtelike konteks as gekonstrueerde sosiale en kultureel-gedeelde betekenisse (Cross 2001). Plek is nie slegs ’n fisiese ruimte waarbinne interaksie tussen lede van ’n spesifieke kultuurgroep plaasvind nie, maar ook ’n manifestasie van persoonlike en kollektiewe kultuurvorming, ’n manier waarop die individu die wêreld waarin hy leef verstaan (Bernardo en Palma-Oliveira 2012:37; Cresswell 2004:11). ’n Persoonlike identiteit korreleer daarom direk met ’n individu se siening van haarself, nie alleen op ’n persoonlike vlak nie, maar ook binne die breër sosiale gemeenskap waarin sy leef. In hierdie sin word plek ervaar as ’n verlengstuk van die self (Bernardo en Palma-Oliveira 2012:35).

In gasheerlande waar daar van verskillende kulturele oriënterings sprake is, is hierdie “verstaan van die wêreld” waarin die migrant leef, van kardinale belang in die formulering van ’n persoonlike identiteitskonstruksie en van gedragspatrone. As gevolg van die feit dat plekbewustheid so integraal verbonde is met die individu se persoonlike identiteitskonstruksie is dit moeilik, en vir sommige individue selfs onmoontlik, om essensiële veranderings aan ’n diepgewortelde identiteit onder vreemde omstandighede aan te bring. Etnisiteit en ononderhandelbare religieuse en kulturele verwysingsraamwerke is belangrike parameters en dikwels die rede waarom migrante dit uiters moeilik vind om in gasheerlande aan te pas (La Barbera 2015:3). 

Plekbewustheid tree eers werklik op die voorgrond wanneer die leefruimte of kulturele identiteit van die groep om die een of ander rede bedreig of uitgedaag word (Fokkema 1996:12–3). Migrante ervaar vervreemding van plek of ruimte op twee fronte. In lande van oorsprong waar ’n spesifieke fisiese en/of emosionele leefruimte bedreig word deur byvoorbeeld hongersnood, oorlog, politieke en/of religieuse onstabiliteit, is migrante dikwels ook getuies van ’n proses van agteruitgang wat hulle met geen ander keuse laat as om huis en haard ter wille van oorlewing te verlaat nie (Vandermerwe 2013:5, 13). Die gevolge van hierdie bedreigings het implikasies vir die wyse waarop die individu haarself en die kultuurgroep waartoe sy behoort, definieer. Onder hierdie omstandighede spel migrasie vervreemding, ontworteling en verlies nie alleen van die plek of ruimte wat die individu tot op daardie stadium as haar fisiese en emosionele tuiste beskou het nie, maar ook van ’n bekende kulturele oriëntering en religieuse verwysingsraamwerk wat voorheen as vanselfsprekend aanvaar is.

Migrante wat ’n bekende ruimte en kulturele oriëntering van hul vaderland verruil vir ’n ander vreemde of botsende kulturele oriëntering in die gasheerland, word akuut bewus van die nuwe ruimte of plek. Waar plekbewustheid binne die eerste fase van ’n persoonlike identiteitskonstruksie verband gehou het met geborgenheid en ’n algemene gevoel van welstand soos bevestig deur sosiale interaksie met ander lede binne die kollektiewe groep, ervaar die migrant ruimtes en plekke binne die gasheerland as vyandig en ontegemoetkomend. Gekonfronteer met vreemde omstandighede en ’n ander lewenswyse as waaraan hulle voorheen in die land van oorsprong gewoond was, voel migrante in gasheerlande alleen, verlore en sonder ’n verwysingsraamwerk of broodnodige ondersteuning van familie of lede van die sosiale groep waartoe hulle behoort het. Waar die vorming van ’n identiteitskonstruksie voorheen ’n onbewustelike natuurlike proses was, vind migrante dat dit wat hulle bestaan tot nou toe onderlê het, dikwels die rede is waarom hulle teenwoordigheid in gasheerlande onaanvaarbaar is (Vandermerwe 2013:79).

Selfvoorstelling en sosiale kategorisering, twee belangrike uitkomste in terme van identiteitskonstruksies wat nie binne ’n groep met dieselfde kulturele oriëntering bevraagteken word nie, word nou in die lig van veranderende omstandighede uitgedaag.

 

6. Grenssones as liminale ruimte

Gevallestudies toon aan dat grensposte die gevaarlikste deel van veral vrouemigrante se reis na gasheerlande is. Korrupsie vier hoogty, maar daar is ook geweld, dreigemente en omkoopgeld wat deur korrupte amptenare geëis word (Andall 2018:9). Wanneer migrante vlug as gevolg van konflik, hongersnood en onmoontlike werksomstandighede, of soos in die geval van Chipo, onder dwang van ’n manlike familielid, is die betrokkenes swak voorbereid en oningelig oor veilige reisgeleenthede wat moontlik beskikbaar is. Veral onwettige migrante, vlugtelinge of asielsoekers is verplig om van smokkelaars se dienste gebruik te maak sodat hulle suksesvol die grens kan oorsteek (Mbiyozo 2018:19, 20). Nog voordat Chipo in Zebra crossing die gasheerland, wat veronderstel is om aan haar ’n nuwe tuiste te bied, binnegaan, ervaar sy diskriminasie, bygelowigheid en stereotiperings (14, 126). Daarbenewens is die alomteenwoordige vrees vir verkragting ’n wesenlike werklikheid waarmee sy rekening moet hou (Andall 2018:9, 14). Onveilige toestande op die land se grense verhinder migrante, veral vroue, om vir besoeke na lande van oorsprong terug te keer. 

Migrasie behels nie die oorsteek van net fisiese grense nie, maar ook van emosionele grense. Madsen en Naerssen (2003:77) merk byvoorbeeld op: “Borders are an integral part of identities and, since people continuously construct their identity, they are also continuously engaged in bordering processes.” Chipo assosieer die oorsteek van grense met verlies: “A border is where you must say goodbye. You cannot afford to turn and look back. The past is the past.” En verder: “A border is where you swap home for hope” (3). Migrante word reeds voordat hulle landsgrense bereik, met die moontlikheid gekonfronteer dat hulle nie noodwendig met oop arms ontvang sal word nie. Die verteller in Zebra crossing sê: “A border is a place where barbed wire and high fences block your way. It is where you are not wanted, but where you must nonetheless go” (3).

Die oorsteek van grense, fisies en emosioneel, bring vir Chipo, soos vir talle ander vrouemigrante in gasheerlande, geen beter lewensomstandighede nie. Een vorm van geweld, diskriminasie en onderdrukking word bloot verruil vir ’n ander, veel erger vorm daarvan. Vir Chipo rym “promised land” met “helping hand”, maar sy leer ’n ander realiteit in Suid-Afrika ken. Hier is daar geen sprake van ubuntu nie; dit is elkeen vir homself (52).

 

7. Suid-Afrika as gasheerland

Die buitengewoon hoë getal migrante wat na Suid-Afrika migreer, kan toegeskryf word aan hoë vlakke van oorlogsgeweld, konflik, natuurrampe, armoede, siektes, hongersnood en werkloosheid wat sekuriteit in lande van oorsprong bedreig (Dodson 2009:149). Net soos die meeste ander gasheerlande, beskik Suid-Afrika oor statutêre maatreëls en voorwaardes waaraan voldoen moet word voordat asielsoekers, vlugtelinge en migrante toegang tot die land kan kry. Hierdie wetgewing is van die mees progressiewe ter wêreld. Die wyse waarop dit toegepas word, asook Suid-Afrika se risikobenadering wat daarop gemik is om risiko’s buite landsgrense te hou, noop Palmary (2016:32) na haar intensiewe gevallestudies om op te merk dat “(t)he asylum system is a performance of universal humanity which ironically created the conditions for the exclusion of the majority migrants by holding up the deserving migrants to almost impossible criteria”. Veral vroue is in die visier van addisionele, dikwels diskriminerende maatreëls wat hulle veel meer as mans beïnvloed en kwesbaar maak (Mbiyozo 2018:3; La Barbera 2015:5; Piper 2009:6; Dodson 2009:13, 151). Wanneer Chipo en George by die Departement van Binnelandse Sake aansoek doen vir verblyfpermitte, word mans en vroue in afsonderlike rye verdeel. Sy merk op dat die ry vir manlike asielsoekers veel vinniger as dié vir vroue vorder (31). 

Daar is verskeie redes waarom inwoners van gasheerlande teen veral die teenwoordigheid van vroue in hulle midde rebelleer. Mans word enersyds as deel van die arbeidsmark verdra omdat hulle gewoonlik werk verrig in sektore waarop die inheemse bevolking neersien (Vandermerwe 2013:29). Andersyds klink daar al hoe meer uitroepe onder die inheemse bevolking op dat migrante werksgeleenthede steel (Danso en McDonald 2000:14). 

Vroue, daarenteen, word as ’n bedreiging gesien omdat kindergeboortes as bevestiging dien dat ’n spesifieke groep migrante permanent in die gasheerland is. Erkenning van permanensie lei tot aansprake op sekere regte en voorregte binne die gasheerland.

Immigrasiewetgewing beperk die posisie van migrante, omdat Suid-Afrika nie werkspermitte aan ongeskoolde werkers toeken nie. Ongedokumenteerde, onwettige migrante is besig om ’n al hoe groter wordende probleem in veral die metropole in die land te word (Van der Walt, Essop en Price 2019:1). Omdat baie vroue in hierdie kategorie val, is geslagspesifieke statistiek rakende migrante onakkuraat of glad nie beskikbaar nie (Mbiyozo 2018:8; Piper 2009:3). Die oorheersing van vrouemigrante wat as afhanklike eggenotes migreer, die onsigbaarheid van vrouearbeid, beperkings op hul reg om te werk en hul betrokkenheid in kriminele aktiwiteite en/of prostitusie lei daartoe dat ’n nog groter persentasie vrouemigrante statisties ongedokumenteer en dus onsigbaar is (Jolly en Reeves 2005:8).

 

8. Private en openbare ruimtes in gasheerlande 

Openbare ruimtes impliseer per definisie onbelemmerde toegang vir alle inwoners, maar ’n perfekte model wat openbare ruimtes reguleer, bestaan nie. Reeds van oudsher word daar in openbare ruimtes teen sekere groepe, veral vroue, gediskrimineer en word hulle toegang tot openbare ruimtes ontsê (Burton 1995:53; Bourdieu 2001:49). Private en openbare ruimtes is sosiale konstruksies wat verskillende domeine van die daaglikse lewe konseptualiseer. Sosiale konstruksies is altyd vervleg met konsepte soos mag, subjektiwiteit, geslag, klas, kulturele oriëntering en individuele voorkeure en persepsies (Cresswell 2004:24; Dickenson 2014:85 e.v.). ’n Ruimte is daarom nooit net openbaar of net privaat nie, maar oorvleuel op ’n verskeidenheid vlakke. Sowel migrante en inwoners van gasheerlande word gekonfronteer met ander kulturele oriënterings wat vir albei groepe vreemde terrein is. Aanpassings aan ’n reeds gevormde identiteitskonstruksie en persoonlike voorwaardes moet nou opnuut onderhandel word binne ’n ander sosiale konteks, institusionele raamwerke en verhoudings, nie alleen op persoonlike vlak nie, maar ook binne die breër openbare konteks in gasheerlande (Hall 1998:4; Madsen en Naerssen 2003:62). So byvoorbeeld sê La Barbera (2015:2): “At the crossroad between self-representation and social categorization lies the core mechanism of individual and collective identities.”

Vreemde omstandighede en/of botsende belange in gasheerlande dwing migrante én inwoners tot ’n herdefiniëring van persoonlike en kulturele identiteit. Dit lei tot konflik in openbare ruimtes. Hoe hierdie konflik hanteer word, het belangrike implikasies vir die identiteitskonstruksie van migrante in gasheerlande. In Zebra crossing is daar talle voorbeelde wat toon dat die inheemse bevolking nie bereid is om plek te maak vir migrante nie. Migrante vrees vir hul eie veiligheid (72 e.v.) en word ook gestigmatiseer as siektedraers, veral MIV-besmetting (Jolly en Reeves 2005:28). 

Vaclav Havel het reeds in 1994 gewaarsku dat kulturele konflikte toeneem en al hoe gevaarliker word (in Segers 2004:193). Xenofobiese geweld die afgelope tyd in Suid-Afrika is ’n sprekende voorbeeld hiervan. Migrante voel uitgesluit, terwyl die inheemse bevolking van mening is dat hul waardesisteme, lewenswyse, hulpbronne en geleenthede in die arbeidsmark bedreig word deur die nuwe inkommers. Benewens kultuurverskille hou hierdie digotomie ook verband met hoë werkloosheid- en misdaadsyfers, gebrekkige infrastruktuur, swak lewensomstandighede en die aanname dat migrantemans die vroue van die inheemse bevolking “steel” net om burgerskap te verkry (Morris 1998:1125). Wanneer George en sy nuwe vriendin in Zebra crossing deur ’n kaartjiesinspekteur onskuldig in hegtenis geneem word, sê Jeremiah byvoorbeeld: “He attacked you because he thought she was a local girl. That you were stealing their women. You know how they talk about us taking their South African girls” (73).

In omgewings waar verskillende kulturele oriënterings teenwoordig is, korreleer plekbewustheid direk met sienings van die “self” en die sogenaamde “ander”. Die kombinasie van hierdie twee prosesse loop uit in die gevoel van anders wees, ’n erkenning van “die ander”, én die erkenning van jou eie andersheid en gevolglike meganismes van insluiting en uitsluiting, wat op hulle beurt in stand gehou word deur openbare beleid en die alledaagse optredes van inwoners. 

La Barbera (2015:9) merk in hierdie verband op:

Identity is indeed essentially comparative in nature and must be understood as originally connected to inclusion/exclusion dynamics. Identity is intended and best described as a relational and contextual process that refers to how individuals and groups consider, construct and position themselves in relation to others according to social categories such as gender, sexuality, culture, race, nation, age, class and occupation. Identity encompasses the multiple roles endorsed by individuals in social life that are externalized through the use of markers, such as language, dress and occupation of space.

Migrante probeer om minder sigbaar in die gemeenskap te wees, maar hulle voorkoms, kleredrag, optredes en gewoontes, asook ’n onvermoë om een van die inheemse tale te praat, maak hulle maklik herkenbaar in plaaslike gemeenskappe (Vandermerwe 2013:40). Daarom is dit maklik om van hulle sondebokke te maak vir probleme wat in die gemeenskap bestaan (Morris 1998:1125). So byvoorbeeld blameer die plaaslike inwoners in Zebra crossing migrante vir die hoë werkloosheidskoers in Suid-Afrika: “Hey, makwerekwere! Go back to your own country! Hey, we know you are only here to take our jobs and money” (72).

Selfdefiniëring en -voorstelling kan alleenlik met verwysing na iets of iemand met ’n ander, dikwels botsende kulturele oriëntering geskied (La Barbera 2015:3; Bowman 1999:55; Voestermans 1991:219). “Die ander” en “die self” kan nie duidelik as konstantes gedefinieer word nie, maar dien eerder as situasiegebaseerde verskuiwende parameters wat gebruik word met verwysing na individue wat hulself binne ’n groter wisselwerkende konteks wil definieer. Om tot ’n bepaalde sosiale en kulturele groepering te behoort (of nie daaraan te behoort nie) is nie ’n duidelik omskrewe saak nie, omdat die konstruksie van ’n identiteit ’n verwante (en opponerende) proses is. Voorstelling van “die self” mobiliseer verskillende vlakke van gebondenheid of tuis wees en daar bestaan nie ’n eenvoudige digotomie tussen “ons” en “hulle” nie. Dit word gevorm deur ’n komplekse proses van toe-eiening en herinterpretasie van sosiale grense wat daarvan afhang of diegene aan die anderkant van die grenslyn die minderheidsgroep aanvaar of verwerp. 

Die behoefte aan wortels en stabiliteit, om te behoort tot ’n bepaalde gemeenskap of kultuurgroep binne ’n bepaalde ruimte, is krities belangrik vir die vorming van ’n identiteitskonstruksie. Migrante beskik nie oor so ’n geografiese ruimte binne gasheerlande waar ’n eie kulturele oriëntering en lewenswyse uitgeleef kan word nie en is daarom aangewese op en afhanklik van aanvaarding deur lede van die inheemse gemeenskap waarin hulle woon. Migrante wat besef dat terugkeer na hul lande van oorsprong nie meer ’n opsie is nie, doen alles in hul vermoë om aanpassings aan ’n persoonlike identiteitskonstruksie te maak sodat inskakeling met die plaaslike gemeenskap moontlik sal wees (Vandermerwe 2013:79), maar slaag selde daarin – enersyds omdat die inheemse bevolking as gevolg van ’n verskeidenheid redes nie bereid is om migrante met ’n ander kulturele oriëntering in hul gemeenskappe te verwelkom nie, en andersyds omdat migrante nie bereid is om van ’n gevestigde verwysings- en waardesisteem afstand te doen nie.

Die aanleer van nuwe tale, aanpassing by ’n ander kultuur en om wortel te skiet is almal voorvereistes vir migrante om in gasheerlande aan te pas en ’n algemene gevoel van welstand en ’n plekgebondenheid te kweek. Die belangrikste hiervan is dat migrante in gasheerlande verwag dat hul verskillende/botsende kultuuroortuiging deur die inheemse bevolking gerespekteer sal word, dat hulle as individue aanvaar sal word, en les bes dat hul bydrae tot die ekonomie raakgesien en waardeer sal word. Vroue wat uit ander lande gevlug het om van onderdrukkende maatreëls te ontsnap, dié met vlugtelingstatus, of wat suksesvol om asiel aansoek gedoen het, is meer geneë om in die gasheerland te bly, maar dit beteken nie noodwendig dat hulle vir die plaaslike bevolking aanvaarbaar sal wees nie (Mbiyozo 2018:17; Jolly en Reeves 2005:11). Om dieselfde velkleur te deel, bied geen waarborg dat migrante uit naburige Afrikastate deur die Suid-Afrikaanse gemeenskap aanvaar sal word nie (Morris 1998:1133). In Suid-Afrika is eerder die teendeel waar. So byvoorbeeld is dit vir George in Zebra crossing totaal onaanvaarbaar dat die inheemse bevolking so vyandiggesind is. Trouens, hy kan dit glad nie verklaar nie: “We are all Africans and yet they see us as worse than colonisers” (76). Aansluitend by sy opmerking is dit juis ironies dat die motto van die Wêreldbekersokkertoernooi lui: “It’s time. Celebrate Africa’s humanity” (28). David, een van die mans met wie Chipo en haar broer die kamer deel, verwys na die bekende uitdrukking van John Donne in Athol Fugard se roman The island: “No man is an island” (91). Hierdie stelling word bevestig deur die uitkoms van Chipo se isolering aan die einde van die roman.

Verskillende geskiedenisse, ruimtes en ondervindings van verskillende etniese groepe beteken verskillende identiteitskonstruksies. Wanneer Chipo in Kaapstad aankom, lyk die Suid-Afrikaners op die perron vir haar anders as Zimbabwiërs (19, 40). Indien migrante nie aanvaar word nie, en as hulle van mening is dat hul gemeenskappe geteiken word as gevolg van hul gemarginaliseerde status, vorm ’n spesifieke, negatiewe plekbewustheid “sense of place”. Dit word gedefinieer deur verskille en maatreëls deur gasheerlande om beheer uit te oefen oor plaaslike openbare ruimtes, terwyl migrante, wanneer hulle daarin kon slaag om hulself in gemeenskappe te organiseer, sekere eise vir instandhouding van ’n eie kulturele oriëntering begin stel.

Giftige of negatiewe retoriek in gasheerlande vervreem migrante, isoleer hulle van die gemeenskap waarin hulle ’n vastrapplek probeer vind en dwing hulle om hulself in afsonderlike groepe op die rand van die gemeenskap te organiseer. George vind dit byvoorbeeld vreemd dat Jean-Paul, ’n Rwandese migrant, nie tussen sy eie mense in die gasheerland bly nie (24). Dikwels bly verskillende migrantegroepe in dieselfde gebou. Hiervan is President’s Heights ’n sprekende voorbeeld. Met slegs hul migrantestatus as gemene deler is daar dikwels spanning en konflik tussen migrantegroepe van verskillende etniese afkoms (Jolly en Reeves 2005:18). In Zebra crossing geld werkreservering vir afsonderlike migrantegroeperings waardeur die een groep dit nie sal waag om op die ander se terrein te oortree nie (24).

Diasporas in gasheerlande vervaag nie meer so vinnig soos wat dikwels in die verlede die geval was nie, omdat nuwe kommunikasiemoontlikhede (internet en sosiale netwerke) ’n eie identiteit en familiebande in lande van oorsprong in stand hou ten spyte van ruimtelike verspreiding (Madsen en Naerssen 2003:68). Boonop is migrante ook op mekaar aangewese ter wille van oorlewing. In Zebra crossing groepeer onder andere Zimbabwiërs, Nigeriërs, Tanzaniërs en Soedannese in eie groepe (120) terwyl Jean-Paul, met geen ander lede van sy kultuurgroep in sig nie, in afsondering op die buiterand van die migrantegemeenskap emosioneel probeer oorleef, maar uiteindelik nie daarin kan slaag nie. 

Hierdie eilande van andersheid in gasheerlande maak assimilasie van migrante by inheemse gemeenskappe feitlik onmoontlik (73). Veral vlugtelinge uit ander Afrikastate, soos Zimbabwe, wil weer eendag na hul lande van oorsprong terugkeer (Morris 1998:1126; Vandermerwe 2013:49). Die doel van migrasie is om genoeg hulpbronne bymekaar te maak sodat ’n beter lewenskwaliteit moontlik sal wees in die land van oorsprong wanneer hulle sou terugkeer. Waar moontlik word ’n eie kulturele verwysingsraamwerk en bande met familielede tuis in stand gehou. Daar is dikwels geen begeerte om met die plaaslike gemeenskap te assimileer nie (Morris 1998:1126). Weerstand teen hierdie afsonderlike groeperings maak die kloof tussen inwoners van gasheerlande en migrante nog groter, en inheemse inwoners reageer met agterdog, vrees of geweld.

 

9. Vroue in openbare ruimtes

Vrouemigrante wat openbare ruimtes betree, is dikwels slagoffers van diskriminasie (Vandermerwe 2013:73), stereotipering of beledigings nie alleen deur lede van die dominante groep in die gasheerland nie, maar ook deur ander manlike migrante (Danso en McDonald 2000:16; Morris 1998:1133; Van der Walt 2019:6; Price 2019:2). In Suid-Afrika ervaar vrouemigrante xenofobiese aanvalle van nie alleen die gemeenskap waar hulle veronderstel is om ’n tuiste te vind nie, maar ook deur amptenare in staats- of ander openbare instansies (Mbiyozo 2018:23; Van der Walt 2019:2). Vrouemigrante is verder onderhewig aan skeltaal deur die plaaslike inwoners, wat beledigende name in hul rigting slinger, soos amakwerekwere2 en kwirikwiri3 (Memela 2014:88). Hierdie woorde word deur vroue as uiters beledigend ervaar. Vir Chipo in Zebra crossing rym al hierdie beledigings met skaamte. As albino word ook na haar verwys as ’n heks, wit medisyne of ’n dunu, die lewende dood (5). 

Vrees vir geweld beperk vroue tot hul huise, omdat hulle bang is om in openbare ruimtes te beweeg, openbare vervoer te gebruik of klinieke te besoek (Kihato 2013:85).4 Voortdurende spanning tussen die plaaslike bevolking en migrante het ’n uiters skadelike invloed op vrouemigrante, omdat hulle by uitstek slagoffers word van isolasie en vereensaming. Migrantevroue slaag ook selde daarin om vir mekaar ondersteuning te bied. In President’s Heights kyk Chipo elke oggend hoe ’n ander migrantevrou oor die straat stap. Alleen en vooroorgebuig. Sy sê vir haarself: “I know that we will probably never meet, but I want to ask her ‘What is your name?’ and ‘Where do you come from?’” (63).

Taalvaardigheid maak of breek interaksie tussen migrante en inwoners van die gasheerland en speel daarom ’n belangrike rol ten opsigte van ’n migrant se aanpasbaarheid. ’n Ander Afrikataal as wat in Suid-Afrika gepraat word, maak ’n migrant of groep sigbaar en maklike teikens vir xenofobiese geweld. Dit laat veral vrouemigrante ontredderd, kwesbaar en uitgelewer aan omstandighede waaraan hulle, as gevolg van swak kommunikasievaardighede, geen verskil kan maak nie. ’n Ander probleem is dat vroue as gevolg van die feit dat hulle nie die plaaslike tale of Engels magtig is nie, nie in staat is om met dokters en/of verpleegsters te kommunikeer nie. Dit maak dit moeilik of onmoontlik om toegang tot gesondheidsdienste te verkry (Vandermerwe 2013:74). 

Vroue wat in ’n poging om van patriargie en/of ander kulturele diskriminasie, aanrandings en uitbuiting te ontsnap, migreer uit vrye keuse, maar loop hulle in gasheerlande dikwels net in ’n ander vorm van diskriminasie vas (Piper 2006:6, 10; Dodson 2009:139). Sonder korrekte dokumentasie is dit onmoontlik om in die formele ekonomiese mark te werk (Kihato 2013:96; Kofman 2009:79). Burokratiese rompslomp en gerugte van korrupte amptenare wat veral vrouemigrante se weerlose posisie uitbuit, is aan die orde van die dag. Selfs tersiêre opleiding is nie ’n paspoort na permanente verblyfreg of toegang tot die arbeidsmark nie. Hoogsgeskoolde migrantevroue is dikwels verplig om ’n minderwaardige posisie in die werksplek te aanvaar ter wille van oorlewing. Vrouemigrante word meestal beperk tot tradisioneel vroulike posisies, soos om as verpleegsters, sekretaresses, kleremakers en huiswerkers te werk (Dodson 2009:139; Boyd en Pikkov 2009:19). In hierdie afgesonderde omgewings is vroue teikens vir fisieke, emosionele en seksuele uitbuiting (Mbiyozo 2018:12; Badenhorst 2016:13; Piper 2009:6). Kragtens Suid-Afrikaanse wetgewing en regspraak5 geniet onwettige migrante dieselfde regte as wettige migrante in die werksplek (Israelstam 2019; Badenhorst 2016:49), maar maak selde van beskikbare dienste gebruik, uit onkunde of vrees vir deportasie (Badenhorst 2016:14). In die praktyk is migrantevroue grotendeels op hulself aangewese om geskille in die werksplek te besleg (Wanka 2008:143). 

Vroue met vlugtelingstatus vind dit besonder moeilik om die arbeidsmark te betree en is verplig om hulle tot die informele sektor te wend (Andall 2018:7; Vandermerwe 2013:29). Boonop is geen bevorderingsmoontlikhede beskikbaar nie. So byvoorbeeld kla ’n vrouemigrant na 30 jaar in Suid-Afrika by dr. Ongani in Zebra crossing: “What have I to show for my life in this country? I find myself looking at my Ma’am’s daughter. (I am) still a maid” (111). In gevalle waar vroue se visums van ’n spesifieke werkgewer afhanklik is, word hulle dikwels die prooi van uitbuiting en diskriminasie. Migrantevroue moet dikwels ’n laer loon as die inheemse bevolking aanvaar en veel harder werk om hul betrekkings te behou (Piper 2009:6). Verder loop hulle die gevaar om hul posisies in die arbeidsmark te verloor as gevolg van swak kommunikasievaardighede, ’n lae vlak van opvoeding en vertragings om wettige dokumente te bekom (Price 2019:2). Boonop is vrouemigrante teikens vir misdaad omdat hulle in kontant vir hul dienste betaal word. Migrante sonder wettige dokumentasie kan boonop nie bankrekenings open nie (Mbiyozo 2018:22; Vandermerwe 2013:48). 

Vrouemigrante uit Afrika is besonder kwesbaar en ervaar drievoudige diskriminasie, naamlik xenofobiese aanvalle, rassisme en kulturele diskriminasie. Boyd en Pikkov (2009:19) merk byvoorbeeld op dat “the negative impacts of gender, combine with those of being an immigrant, causing immigrant women to be ‘double disadvantage’, and likely to be overrepresented in marginal, unregulated, and poorly-paid jobs”. In plaas daarvan dat ’n vrouemigrant deel word van ’n gemeenskap wat haar menswaardigheid erken, kruip sy weg.

 

10. Die huis/woning as private ruimte

Die huis as intieme private ruimte is veel meer as ’n fisiese plek binne ’n bepaalde ruimte. Dit is die plek waar inwoners, verkieslik almal lede van dieselfde gesin, ’n gebondenheid en ’n algemene gevoel van welstand ervaar. Hier kan die migrant haar afsonder van ’n ontredderde, vreemde wêreld daarbuite. Sy is vry om ’n eie kulturele en religieuse oriëntering uit te leef. So ’n intieme ruimte is aanvanklik nie vir migrante in gasheerlande beskore nie. Beskikbare finansiële middele is gedurende die reis gebruik (Kenge 2017:3). Vlugtelinge arriveer sonder ’n sent tot hulle beskikking en in Suid-Afrika is daar nie tentdorpe of kampe waar vlugtelinge of asielsoekers gehuisves word totdat hul dokumentasie afgehandel is nie (Kihato 2013:96). Migrante is daarom genoodsaak om te plak of hulle vir huisvesting op sosiale netwerke te verlaat. In gevalle waar migrante daarin kon slaag om ’n verblyfpermit en werk te bekom, is die vergoeding só min dat hulle steeds verplig is om kamers of woonstelle te deel. Onder hierdie beknopte omstandighede kan daar geen sprake van persoonlike privaatheid wees nie. Vroue word erg benadeel en hul menswaardigheid aangetas. Chipo en haar broer in Zebra crossing is genoodsaak om in die reeds oorvol woonstel van ander Zimbabwiërs wat vroeër emigreer het, te woon. Onder hierdie omstandighede is sy verplig om haar tradisioneel ondergeskikte rol te vervul. In plaas van ’n veilige hawe word haar woonplek in die gasheerland ’n plek van uitbuiting en diskriminasie, die plek waar sy uiteindelik van haar lewe en menswaardigheid ontneem word.

Wat getroude vrouemigrante aanbetref, maak oorvol woonomstandighede dit onmoontlik om ’n huwelikslewe in stand te hou. Mans spandeer gevolglik al hoe meer tyd buitenshuis of in tavernes (Kenge 2017:6). Vroue aanvaar oor die algemeen hulle lot gelate, want die gevolge van ’n mislukte huwelik is vreesaanjaend, veral in gevalle waar haar verblyfreg afhanklik is van haar man se posisie in die gasheerland (Vandermerwe 2013:78).

Wanneer migrantegesinne wel daarin slaag om ’n eie woonruimte te betrek, beteken dit nie noodwendig dat vroue se posisie verbeter nie. Migrante verlaat, reis en hervestig hulle in nuwe plekke op grond van vorige ervarings en ’n vasgelegde kulturele oriëntering en waardesisteem (Bernardo en Palma-Oliveira 2012:36). Geslagsrolle wat in die land van oorsprong gegeld het, word meestal in die gasheerland gehandhaaf, veral in gevalle waar vlugtelinge in ’n eie afsonderlike gemeenskap groepeer (Wanka 2008:146). Onder vervreemdende omstandighede gryp migrante wat saam groepeer, terug na ’n reeds gevestigde kulturele oriëntering en gedragspatrone. Rituele of ’n bepaalde lewenswyse word dikwels met veel meer vasberadenheid in stand gehou en afgedwing om ’n gevoel van geborgenheid te skep. Sekere kulturele oriënterings verwag van vroue om afhanklik, gehoorsaam en ondersteunend aan nie alleen hulle eie eggenotes te wees nie, maar aan alle mans. So byvoorbeeld laat sekere kulture mans nie toe om tradisionele huiswerk te doen wanneer daar ’n vrou teenwoordig is nie. Vroue aanvaar hierdie ondergeskikte posisie as normaal. Chipo aanvaar dit as vanselfsprekend dat dit haar verantwoordelikheid en plig is om die volledige huishouding van die woonstel wat sy en haar broer met talle ander mans deel, op haar skouers te neem. Trouens, sy verbind haar idee van ’n “ware vrou” met die suksesvolle uitvoering van hierdie pligte (62). Al wat sy nodig het, is ’n “A-grade for scrub, cook and clean” (33). Sy dink nie eens daaraan dat sy as mens ook respek en erkenning verdien nie (92, 122).

Ruimtes word ook sensories ervaar, en dit het ’n emosionele uitwerking op die migrant wat haar binne daardie ruimte bevind. Veral vroue wat alleen en geïsoleer is van die ondersteunende netwerk binne die kollektiewe groep waartoe sy in die land van oorsprong behoort het, probeer dikwels onbewustelik, om vir haarself op allerhande maniere ’n emosionele ruimte binne-in haar blyplek te skep (La Berbera 2015:4; Philipp en Ho 2010). Chipo probeer om die woonstel op ’n manier skoon en netjies te hou. Sy kook tradisionele geregte en neem dit op haar om eiehandig ’n Kersfees-ete voor te berei wat herinner aan die tradisionele Kersetes in haar ouerhuis jare gelede (54).

In hierdie konteks word die huishoudelike ruimte ook ’n morele spasie waar die vroue nie alleen hul bande met die land van oorsprong versterk en in stand hou nie, maar ook ’n eie terrein afbaken. Talle vrouemigrante uit buurstate ervaar die Suid-Afrikaanse gemeenskap as ’n gemeenskap met gebrekkige morele waardes waarvan hulle nie deel wil wees nie (Kihato 2013:83). Huishoudelike ruimtes word dus belangrik vir die skep van ruimtes waarin gesinne en kinders wat nie meer deel kan wees van die rituele, gebruike en lewenswyses waaraan hulle in die land van oorsprong blootgestel was nie, aan ’n kollektiewe samesyn kan deelneem (Vandermerwe 2013:60). Hier kan migrantevroue ’n eie kulturele oriëntering en waardesisteem ongestoord en op ’n natuurlike wyse aan hulle kinders oordra. Deurdat die intieme huishoudelike ruimte ’n nuwe balans en ’n gevoel van algemene welstand in vervreemdende omstandighede skep, span dit ’n emosionele veiligheidsnet om vrouemigrante én die kinders in die huishouding (Kihato 2013:85).

Ten spyte van die veronderstelling dat “huis” as intieme, private ruimte die plek is waar migrante veilig en geborge behoort te voel, is die teendeel dikwels waar. Vlugtelinggemeenskappe in gasheerlande word gekonfronteer met ingrypende veranderings en is as gevolg daarvan onderhewig aan hoë stresvlakke. Vervalste of die gebrek aan wettige dokumente maak die vrees vir deportasie ’n werklikheid (Jolly en Reeves 2005:17). Migrante wat reeds in besit van verblyfpermitte is, doen in baie gevalle nie aansoek vir ’n verlenging wanneer die wettige tydperk wat hulle in die gasheerland mag wees verstryk het nie. In Zebra crossing word ’n migrant gearresteer toe hy by die Departement van Binnelandse sake gaan aansoek doen vir die verlenging van sy verblyfpermit. Hy word summier gedeporteer ten spyte van die feit dat sy hele gesin ook in Suid-Afrika is en van ’n inkomste ontneem word (78). 

Indien mans nie daarin kan slaag om werk in die gasheerland te bekom nie, word vroue gedwing om dikwels vir die eerste maal die arbeidsmark te betree. Onder hierdie omstandighede dra vroue ’n veel swaarder las as mans, omdat hulle nie alleen buitenshuis moet werk nie, maar ook ’n gesin en huishouding moet versorg (Vandermerwe 2013:51). Indien hulle wel daarin slaag om ’n inkomste vir die gesin te genereer, ervaar die manlike broodwinner ’n gevoel van onbevoegdheid en ’n verlies van beheer wat sy tradisionele posisie as hoof van die huishouding in gevaar stel. Gewelddadige optredes bevestig sy manlikheid en herbevestig sy verlies aan identiteit. Al hierdie spanning versteur die gesinsdinamika en lei dikwels tot huishoudelike geweld (Mbiyozo 2018:12; Wanka 2008:147). Die intieme binneruimte van haar huis waar ’n vrouemigrant veronderstel is om veilig en geborge te voel, is dikwels ook die toneel waar haar lewe nie alleen emosioneel nie, maar ook fisiek bedreig word.

Huishoudelike geweld word selde aangemeld,6 omdat geweld teen vroue as normale gedrag in sekere kulturele verwysingsraamwerke aanvaar word. As vroue protesteer, word hulle as slegte vroue tipeer wat na alle waarskynlikheid die man se optrede verdien het. Hierdeur word ’n bepaalde ideologie en patriargie nie alleen goedgekeur nie, maar ook in stand gehou. In ander gevalle vrees vroue deportasie omdat hulle verblyfreg, asook dié van hul kinders, in die gasheerland direk gekoppel is aan die wettige status van hul eggenotes (Jolly en Reeves 2005:42). Met ’n kriminele rekord verloor ’n man sy verblyfreg. Vrouemigrante se weerloosheid is nog hoër in gevalle waar hulle onwettig in die gasheerland is. Vroue word daarom geforseer om by gewelddadige mans te bly wat hulle keer op keer verneder en aanrand. Migrantevroue soek nie hulp by diensverskaffers of huise van veiligheid nie, omdat huishoudelike geweld tradisioneel ’n private aangeleentheid is en ook omdat vroue dikwels nie kans sien om persoonlike vernederings aan die groot klok te hang nie (Wanka 2008:146). Vroue dra ook nie altyd kennis van die verskillende diensverskaffers wat in gasheerlande beskikbaar is nie. Wanneer klagtes wel gelê word, dwing polisielede of lede uit die gemeenskap migrantevroue dikwels om die klagtes te laat vaar (Kihato 2013:89). Wanneer George vir Chipo deur die gesig klap, het sy geen verweer nie. En in ’n klein kamertjie opgesluit is sy boonop nie in die posisie om enige klag te gaan lê nie. Met ’n stukkende bril kan sy ook nie meer behoorlik sien nie. Sy het geen ander keuse as om haar lot gelate te aanvaar nie (132).

Huishoudelike geweld is ’n komplekse aangeleentheid wat verskillend deur verskillende kultuurgroeperinge geïnterpreteer word. Dit het nie alleen ’n vernietigende effek op die slagoffer nie, maar beïnvloed ook die hele gemeenskap waarin dit gesanksioneer word (Wanka 2008:146). Dit verander nie alleen die verhouding tussen gesinslede onderling nie, maar word ook gevorm en beïnvloed deur ander optredes (of gebrek daaraan) deur die plaaslike inwoners, polisie, kerk, of die sosiale gemeenskap in sy geheel. Met ander woorde, wat in die huis gebeur, het gevolge na buite, op dieselfde wyse as wat gebeure in die openbare ruimtes ook die huishoudelike ruimtes beïnvloed. Vir vrouemigrante wat openbare ruimtes reeds as bedreigend ervaar, bied die huis onder hierdie omstandighede ook geen veilige hawe nie.

 

11. Verbeelde ruimtes

Verbeelde ruimtes neem ’n belangrike plek in die identiteitskonstruksies van migrante in gasheerlande in. Wanneer ’n persoon ’n gebondenheid met ’n plek ontwikkel, word die betrokke plek saam met ’n bepaalde kulturele en waardesisteem in die persoon se onderbewussyn vasgelê. Ervaring en interpretering van huidige omstandighede is verweef met gebeure uit die verlede van die individu of groep waarvan sy lid is of was (De Wilde 2001:64). Vir migrante in ontredderde omstandighede omvat plekbewustheid juis ’n terugkeer na daardie plek(ke) waarmee ’n bepaalde emosionele verbondenheid gevorm is in ’n poging om nuwe betekenisse te vind. Evans (2014) suggereer iets hiervan wanneer hy met verwysing na Legen en Kistemann (2012) sê dat ’n outobiografiese herinnering wat spesifieke, kontekstuele ervarings van ’n plek of ’n ruimte herbeleef, ’n belangrike komponent in die ontwikkeling van ’n identiteitskonstruksie is. 

Verlies van die emosionele verbinding met die plek/land van oorsprong is een van die vele uitdagings waarmee migrante vrede moet maak, soveel te meer as woon- of werksomstandighede in gasheerlande haglik is en die migrant nie oor die finansiële middele beskik om terug te keer huis toe nie. Ontwortelde migrante wat nie daarin kan slaag om aan te pas in gasheerlande nie, skep vir hulleself deur middel van herinneringe ’n verbeelde ruimte om hulle indirek met die vaderland te verbind. Omstandighede in die land van oorsprong verander ook, en daarom is herinneringe wat aan ’n spesifieke plek gekoppel word niks anders as ’n verbeelde ruimte nie.

Deur middel van herinneringe aan die verlede waarna ’n individu in bedreigende omstandighede herhaaldelik terugkeer, skep die individu vir haarself ’n tuiste, ’n plek waar sy veilig en geborge kan voel. In die voorwoord van Zebra crossing (2) skryf Chipo oor herinneringe: “You see, after what happened to me, I still have my past for company. It creeps out of dark corners and gathers round like specks of slowly spinning dust.” Al is Chipo van haar menswaardigheid in die gasheerland gestroop, kan niemand haar herinneringe van haar wegneem nie. Daardeur skep sy vir haarself ’n eie private ruimte waar sy veilig kan voel, al besef sy dat dit niks anders is as die vrug van haar verbeelding nie (142).

Stories en sosiale netwerke is krities belangrik, nie alleen om bande met familie in die land van oorsprong in stand te hou nie, maar ook vir die instandhouding en uitbouing van verbeelde landskappe (Madsen en Naerssen 2003:68). Deur te onthou of stories oor die vaderland te vertel, word samehang en integriteit verleen aan geskiedskrywing wat om die een of ander rede onderbreek, of gekompromitteer is deur die een of ander verlies (Seyhan 2001:4). Of stories en mites nou handel oor die familie, heldedade van volkshelde of geskiedkundige gebeurtenisse in die land van herkoms, is dit niks anders as ’n bewuste poging om ’n verbeelde werklikheid te skep en in stand te hou nie (Said 2000:177). Stories is met ander woorde intiem verbonde aan ’n verbeelde werklikheid, ’n plekgebondenheid, asook ’n plekbewustheid.

Toestande wat in die eerste plek gelei het tot die besluit om te migreer, vervaag, en die land van oorsprong word geïdealiseer (Kazmierska 2003:2). In Zebra crossing skuif Chipo die haglike omstandighede in Zimbabwe al hoe meer op die agtergrond van haar gedagtes in die storie wat sy vertel. Hoe moeiliker haar omstandighede in die gasheerland word hoe meer verplaas sy haarself denkbeeldig na haar ouerhuis in Zimbabwe waar sy liefde, geborgenheid, onvoorwaardelike aanvaarding en die beskerming van haar ma ervaar het. Sy verwys mettertyd al hoe minder na die haglike omstandighede en verwerping waaraan sy in dieselfde plek blootgestel was.

 

12. Ten slotte

Studies oor migranteproblematiek ignoreer die unieke probleme wat vrouemigrante in gasheerlande ervaar, en hul posisie verdien veel meer aandag as wat tans die geval is. Weg van sosiale ondersteuning en die kultuurgemeenskap waarvan die individu deel was in die land van oorsprong, asook botsende kulturele uitdagings in die gasheerland, armoede, sosiale isolasie, beperkte regte om probleme in die werkplek te onderhandel, swak toegang tot gesondheidsdienste, huishoudelike geweld, haatspraak, xenofobie, beledigings en verskillende vorme van diskriminasie laat haar ontredderd, gestroop van menswaardigheid en onwelkom voel in ’n land waarop sy haar hoop vir beter lewensomstandighede geplaas het. Hierdie faktore kniehalter vroue om ’n emosionele gebondenheid met ’n nuwe ruimte te ontwikkel en maak veranderings aan ’n eie persoonlike identiteitskonstruksie onmoontlik.

Zebra crossing slaag by uitstek daarin om die persoonlike ervaringswêreld van vrouemigrante in Suid-Afrika onder die vergrootglas te plaas. Die roman toon duidelik aan hoe die gevolge van migrasie indring tot binne-in die intieme dimensies van vroue se persoonlike lewe: emosies, gevoelens, strategieë van selfvoorstelling, sosiale interaksie en die vermoë om hulle eie lewenslot te bepaal. Toegerus met hierdie kennis, sal die inheemse gemeenskap waarskynlik met meer simpatie en verdraagsaamheid kyk na die sogenaamde “ander” in hul midde. Die ruimte waarin Chipo haar in Zebra crossing bevind, word metafoor vir onderdrukking, diskriminasie en uitbuiting. Haar “plek” in hierdie sin oorspan al die verskillende terreine van sosiale kategorisering wat inspeel op die persoonlike identiteitskonstruksie van vroue in lande van vertrek en lande van aankoms. Dit is uit hierdie roman duidelik dat die unieke uitdagings wat vroue as gevolg van migrasie die hoof moet bied, nie langer in migrantestudies oor die hoof gesien kan word nie.

 

Bibliografie

Abu-Lughod, I., R. Heacock en K. Mashef (reds.). 1991. The landscape of Palestine: Equivocal poetry. Birzeit: Birzeit University Publications.

Altman, I. en S.M. Low (reds.). 1992. Place attachment. New York: Plenum Press.

Andall, J. 2018. Intra-African female labour migration: Common issues, work and rights. UNTAD. Economic development in Africa report 2018 on migration for structural transformation. https://unctad.org/en/PublicationsLibrary/edar2018_BP1_en.pdf (10 Januarie 2020 geraadpleeg).

Antman, F.M. 2018a. Women and migration. In Averett e.a. (reds.) 2018:731–47.

—. 2018b. Women and migration. IZA Discussion Paper No. 11282. http://ftp.iza.org/dp11282.pdf (13 Julie 2019 geraadpleeg).

Averett, S.L., L.M. Argys en S.D. Hoffman (reds.). 2018. The Oxford handbook of women and the economy. New York: Oxford University Press. 

Badenhorst, K. 2016. The labour rights of irregular migrants in South-Africa. Universiteit van Pretoria. https://repository.up.ac.za/bitstream/handle/2263/60082/Badenhorst_Labour_2017.pdf?sequence=1&isAllowed=y (10 Januarie 2020 geraadpleeg).

Bernardo, F. en J.M. Palma-Oliveira. 2012. Place identity: A central concept in understanding intergroup relationships in the urban context. In Casakin en Bernardo (reds.) 2012:35–46.

Bourdieu, P. 1991. Language and symbolic power. Vertaal deur G. Raymond en M. Adamson. Cambridge: Polity Press.

—. 2001. Masculine domination. Vertaal deur R. Nice. Cambridge: Polity Press.

Bowman, G. 1991. The exilic imagination: The construction of the landscape of Palestine from its outside. In Abu-Lughod e.a. (reds.) 1991:53–78. 

Boyd, M. en D. Pikkov. 2009. Finding a place in stratified structures. In Piper (red.) 2009:19–58.

Bradbury-Jones, C., P. Ogik, J. Betts, J. Taylor en P. Lund. 2018. Beliefs about people with albinism in Uganda: A qualitative study using the common-sense model. Plos One, 13(10):1–16. https://doi.org/10.1371/journal.pone.0205774 (5 Mei 2019 geraadpleeg).

Burton, J.B. 1995. Theocritus’s urban mimes. Mobility, gender and patronage. Berkeley: University of California Press.

Casakin, H. en F. Bernardo (reds.). 2012. The role of place identity in the perception, understanding and design of built environments. Sharjah: Bentham Science Publishers. (E-boek)

Corbey, R. en J. Leerssen. 1991. Alternity, identity, image, selves and others in society and scholarship. Amsterdam: Atlanta. 

Cresswell, T. 2004. Place. A short introduction. Oxford: Blackwell Publishing Ltd.

Cross, J.E. 2001. What is sense of place? https://www.researchgate.net/publication/282980896 (30 Julie 2019 geraadpleeg). 

Danso, R. en D.A. McDonald. 2000. Immigration and the press in post-apartheid South-Africa. Southern African Migration Project 2000. Kaapstad: Tandym Print. 

De Wilde, M. 2001. “Arrêter le jour”. Over de herinnering bij Walter Benjamin. Krisis, 2:64–79.

Dickenson, C. 2014. Looking at ancient public space. Historisch Erfgoed. https://ugp.rug.nl/groniek/article/view/18278/15753 (14 Augustus 2019 geraadpleeg)

Dodson, B. 2009. Gender, migration and livelihoods. In Piper (red.) 2009:137–58.

Evans, P. 2014. Sense of place. https://www.academia.edu/10851653/Sense_of_Place_-_Essay_ (20 Julie 2019)

Fleury, A. 2016. Understanding women and migration: A literature review. Knomad Working Paper 8. http://atina.org.rs/sites/default/files/KNOMAD%20Understaning%20Women%20and%20Migration.pdf (10 Julie 2019 geraadpleeg). 

Fokkema, D.W. 1996. Culturele identiteit en literaire innovatie. Utrecht: University Utrecht. Faculteit der Letteren. 

Hall, S. 1998. Introduction: Who needs “identity”? In Hall en Du Gay (reds.) 1998:1–17. 

Hall, S. en P. du Gay (reds.). 1998. Questions of cultural identity. Londen: Sage Publications.

Israelstam, I. 2019. Illegal workers have labour law rights. The South African labour guide. https://www.labourguide.co.za/most-recent/1524-illegal-workers-have-labour-law-rights (14 Januarie 2020 geraadpleeg). 

Jolly, S. en H. Reeves 2005. Gender and migration. Institute of Development Studies. http://docplayer.net/42745-Gender-and-migration-overview-report-susie-jolly-with-hazel-reeves-bridge.html (15 Mei 2019 geraadpleeg).

Kazmierska, K. 2003. Migration and changes of identity. The analysis of a narrative. Forum Qualitative Social Research, 4(3). http://www.qualitative-research.net/index.php/fqs/article/view/669 (5 Mei 2019 geraadpleeg).

Kenge, L.E. 2017. The experience of Congolese women refugees in South Africa: A church response. Pharos Journal of Theology, 98. https://www.pharosjot.com/uploads/7/1/6/3/7163688/article_2_vol_98_2017.pdf (10 Mei 2019 geraadpleeg).

Kihato, C.W. 2013. Migrant women of Johannesburg. Hampshire: Palgrave Macmillan. 

Kofman, E. 2009. Gendered migrations, livelihoods and entitlements in European welfare regimes. In Piper (red.) 2009:59–100.

Krummel, S. 2014. Migrant women, place and identity in contemporary women’s writing. Identities, 22(6):722–38.

Ladele, O.A. en A.E. Omotayo. 2017. Identities in Chika Unigwe’s novels. Studies in Literature and Language, 14(3):52–7.

Lambrechts, M. 2019. Migranteliteratuurtemas in Die wêreld van Charlie Oeng deur Etienne van Heerden. LitNet Akademies, 16(1):103–44. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2019/06/LitNet_Akademies_16-1_Lambrechts_103-144.pdf (5 Mei 2019 geraadpleeg).

La Barbera, M. 2015. Identity and migration: an introduction. In La Barbera (red.) 2015:1–16.

La Barbera, M. (red.). 2015. Identity and migration in Europe: Multidisciplinary perspectives. Londen: Springer International Publishing. 

Low, S.M. 1992. Symbolic ties that bind. Place attachment in the plaza. In Altman en Low (reds.) 1992:165–85.

Madsen, D. en T. van Naerssen. 2003. Migration, identity and belonging. Journal of Borderlands Studies, 18(1):61–75. 

Malpas, J.E. 2018. Place and experience. A philosophical topography. 2de uitgawe. New York: Routledge. 

Maluleke, R. 2018. Crime against women in South Africa. Statistics Series, Volume 1. Verslag 03-40-05. http://www.statssa.gov.za/publications/Report-03-40-05/Report-03-40-05June2018.pdf (14 Januarie 2015 geraadpleeg).

Mbiyozo, A.-N. 2018. Gender and migration in South Africa. Institute for Security Studies. https://issafrica.s3.amazonaws.com/site/uploads/sar-16.pdf (15 Mei 2019 geraadpleeg).

Memela, S. 2014. Vulnerabilities of African refugees in South Africa: A case study of Albert Park area. School of Agriculture, Earth and Environmental Sciences. https://researchspace.ukzn.ac.za/bitstream/handle/10413/12280/Memela_Sinenhlanhla_2014.pdf?sequence=1&isAllowed=y (20 Mei 2019 geraadpleeg).

Morris, A. 1998. Our fellow Africans make our lives hell: The lives of Congolese and Nigerians living in Johannesburg. Ethnic and Racial Studies, 21(6):1116–35.

Palmary, I. 2016. Gender, sexuality and migration in South Africa. Cham, Switserland: Palgrave Macmillan.

Perl, G. 2019. Migration as survival. Withheld stories and the limits of ethnographic knowability. Migration and Society: Advances in Research, 2:12–25. 

Pessar, P.R. en S.J. Mahler. 2003. Transnational migration: Bringing gender in. International Migration Review, 37(3):812–46.

Philipp, A. en E. Ho. 2010. Migration, home and belonging: South African migrant women in Hamilton, New Zealand. New Zealand Population Review, 36:81–101.

Piper, N. 2009. International migration and gendered axes of stratification. In Piper (red.) 2009:1–18.

Piper, N. (red.). 2009. New perspectives on gender and migration. Livelihood, rights and entitlements. New York: Routledge. 

Price, L. 2019. Komitee kap oproer. Volksblad, 7 Augustus, bl. 2. 

Prohansky, H.M., A.K. Fabian en R. Kaminoff. 1983. Place-identity: physical world socialization of the self. Journal of Environmental Psychology, 3(1):57–83.

Said, E. 2000. Invention, memory and place. Critical Inquiry, 26(2):175–92.

Segers, R.T. 2004. The underestimated strength of cultural identity: The search for cultural specificity between localization and globalizing tendencies. In Viljoen en Van der Merwe (reds.) 2004:175–97.

Seyhan, A. 2001. Introduction. Neither here/nor there: the culture of exile. In Seyhan (red.) 2001:3–22. 

Seyhan, A. (red.). 2001. Writing outside the nation. Princeton: Princeton University Press. 

Ujang, N. en K. Zakariya. 2015. The notion of place, place meaning and identity in urban regeneration. https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S1877042815000889 (20 Julie 2019). 

Van Alphen, E. 1991. The other within. In Corbey en Leerssen (reds.) 1991:1–16.

Vandermerwe, M. 2013. Zebra crossing. Kaapstad: Umuzi.

Van der Walt, A. 2019. Ons is onder beleg. Volksblad, 20 Augustus, bl. 6.

Van der Walt, S. 2019. Xenofobie in Suid-Afrika. Die woede kring uit. Volksblad, 6 September, bl. 2. 

Van der Walt, S., P. Essop en L. Prince. 2019. Reaksie teen xenofobie. Afrika woedend. Volksblad, 5 September, bl. 1. 

Viljoen, H., M. Lewis en C.N. van der Merwe. 2004. Learning about space – and about ourselves. In Viljoen en Van der Merwe (reds.) 2004:1–22.

Viljoen, H. en C.N. van der Merwe (reds.). 2004. Storyscapes. South African perspectives on literature, space and identity. New York: Peter Lang. 

Voestermans, P. 1991. Alternity/identity: a deficient image of culture. In Corbey en Leerssen (reds.) 1991:219–50.

Wanka, N.N. 2008. The interrelations of violence – from the transnational to the domestic. Experiences of refugee women in Cape Town. MA-verhandeling, Universiteit van Wes-Kaapland. https://etd.uwc.ac.za/xmlui/handle/11394/2723 (15 Mei 2019 geraadpleeg).

Wasserman, H. 2000. Re-imagining identity essentialism and hybridity in post-apartheid Afrikaans short fiction. Current Writing, 12(2):96–112.

 

Eindnotas

1 So byvoorbeeld kan Chipo identifiseer met die liedere van die walvisse in die museum wat vir haar die uitdrukking van verlange is (90).

2 Dit is ’n aanstootlike term wat deur swart mense in Suid-Afrika gebruik word om na buitelanders te verwys. Dit is ’n Xhosa-woord bestaande uit ama- (meervoud) en -kwerekwere.

3 Kwirikwiri verwys na ’n swart persoon wat in die buiteland gebore is.

4 Geweld teen vroue in Suid-Afrika is ’n werklikheid (Statistiek Suid-Afrika 2018). Geen statistiek vir 2019 is nog uitgereik nie. Vrouemigrante is meer uitgelewer as gevolg van hulle lewensomstandighede en die gebrek aan ’n groter gemeenskap wat veiligheid kan bied.

5 Discovery Health Limited v CCMA & others (2008)7 BLLR663(LC)

6 Huishoudelike geweld is ook deel van die Suid-Afrikaanse verwysingsraamwerk en word dikwels om dieselfde redes nie aangemeld nie.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Die invloed van plek en ruimte op die identiteitskonstruksie van vrouemigrante binne die Suid-Afrikaanse konteks na aanleiding van <i>Zebra crossing</i> (2013) deur Meg Vandermerwe appeared first on LitNet.

Verhoudingwelstand van adolessente in ’n Suid-Afrikaanse hoërisiko gemeenskap

$
0
0

Verhoudingwelstand van adolessente in ’n Suid-Afrikaanse hoërisiko gemeenskap

Odette Geldenhuys en Izanette van Schalkwyk, Gesondheidswetenskappe: Sentrum vir Kinder-, Jeug- en Familiestudies, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)

LitNet Akademies Jaargang 17(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming 

Adolessente wat in ’n hoërisiko gemeenskap woon, het daagliks te make met ’n omgewing wat gekenmerk word deur ’n hoë voorkoms van misdaad, armoede, siektetoestande, gebroke families en verskeie sosiale euwels. Die konteks waarbinne alle interpersoonlike aktiwiteite/handeling plaasvind, kan verhoudingswelstand bevorder of belemmer. Literatuur toon dat die belewing van gesonde verhoudings en karaktersterktes soos deernis en vergifnis in gewone alledaagse interaksies gedemonstreer word.

In hierdie kwalitatiewe studie is ’n beskrywende ontwerp gebruik om die verhoudingswelstand van ’n groep adolessente wat in ’n Suid-Afrikaanse hoërisiko gemeenskap woon, te verken. Twaalf leerders in elk van drie geselekteerde sekondêre skole is genooi om aan die navorsing deel te neem. Die ouderdom van die deelnemers het gewissel tussen 14 en 18 jaar, en hulle het die demografie van die gemeenskap verteenwoordig, naamlik swart en bruin mense. Deelnemers was Afrikaans-, Engels- en Xhosasprekend. Inligting is ingesamel deur persoonlike onderhoude en Wêreldkafeebespreking by drie sekondêre skole. Tematiese data-ontleding is gebruik.

Kwalitatiewe bevindings toon ernstige struikelblokke vir die verhoudingswelstand van adolessente wat in ’n hoërisiko gemeenskap woon. Alhoewel adolessente wel ’n goeie idee het van gesonde verhoudings, is positiewe interaksies hoofsaaklik in terme van die afwesigheid van krenkende gedrag of mishandeling, soos geweld, beskryf.

Betekenisvolle persone is sentraal tot adolessente se verhoudingswelstand, soos naaste en uitgebreidefamilielede, vriende, asook persone met wie romantiese verhoudings aangeknoop is. Adolessente se effektiewe hantering van emosies, veral intense negatiewe emosies, is belangrik vir die gesonde persoonlike verbintenisse, en die rol van konteks, naamlik die positiewe en negatiewe invloede van die hoërisiko gemeenskap, is beklemtoon. Daar word aanbeveel dat die verhoudingsvaardighede en spesifieke interpersoonlike bevoegdhede van adolessente doelgerig bevorder word.

Trefwoorde: adolessente; hoërisiko gemeenskap; kwalitatiewe beskrywende navorsingsontwerp; positiewe psigologie; Suid-Afrika; verhoudingswelstand

 

Abstract

Relational well-being of adolescents in a South African high-risk community 

Adolescents living in a high-risk community are frequently dealing with an environment characterised by the high incidence of crime, poverty, disease and disorders, broken families and social ills. All interpersonal activities take place within a particular setting and this context can either encourage or hinder relational well-being. Literature shows that the experience of healthy relationships and character strengths such as compassion and forgiveness happens in ordinary daily interactions. 

In this qualitative study we used a descriptive design to explore the relational well-being of a group of adolescents living in a high-risk South African community. Twelve learners in each of three selected secondary schools were invited to participate in this research. The age range of the participants was between 14 and 18 years, and they were demographically representative of the community, namely black and coloured persons. Participants were Afrikaans-, English- and Xhosa-speaking. Information was collected by means of personal interviews and World Café discussions at the three secondary schools. Thematic data analysis was used.

Qualitative findings indicate serious obstacles to the relational well-being of adolescents living in this high-risk community. Although adolescents have a good idea of healthy relationships, they described positive interactions mostly in terms of the absence of dysfunctional behaviour or relational abuse, such as violence. Significant persons are central to adolescents’ relational well-being, for example, close and extended-family members, friends, as well as romantic relationships. Adolescents’ coping with emotions, especially intense negative emotions, is important for healthy interpersonal connecting; and the role of context, particularly the positive and negative influences of the high-risk community, was emphasised. It is recommended that the relational skills and particular interpersonal competencies of adolescents should be deliberately encouraged. 

Keywords: adolescents; high-risk community; positive psychology; relational well-being; qualitative descriptive research design; South Africa

 

1. Inleiding

Gesonde verhoudings is van beslissende belang vir positiewe funksionering (Gergen 2009; Mahali, Lynch, Fadiji, Tolla, Khumalo en Naicker 2018; Seligman 2011; Wissing 2014). Vaardighede en bevoegdhede vir positiewe interaksies en goeie verbintenisse is egter nie ’n vanselfsprekende gevolg van die grootwordjare of volwassewording nie (Beets 2019; Khumalo, Temane en Wissing 2012). Dit beteken dat die inherente vermoë van alle mense tot interaktiewe handeling en interpersoonlike gehegtheid nie interpersoonlike gesondheid waarborg nie. Leeffase asook konteks en kultuur is belangrike aanduiders van verhoudingswelstand (Ungar 2015). McCubbin, McCubbin, Zhang, Kehl en Strom (2013) wys daarop dat die Westerse en individualistiese perspektief moontlik nie ’n voldoende raamwerk bied om die welstand van kollektivistiese kultuurgroepe te verklaar nie. McCubbin e.a. (2013) beklemtoon die interafhanklike aard van sulke kulture in die verbintenisse van individue, gesinne, gemeenskappe en samelewings.

Verhoudingswelstand omvat alle verhoudings en dimensies, wat individue se sosiale ekologie, byvoorbeeld familie, voorvaders, fisiese omgewing, samelewing en kultuur, insluit (Mahali e.a. 2018). Gesonde menslike ontwikkeling en funksionering word grootliks bepaal deur ons gewone alledaagse interaktiewe verbintenisse met ander persone en hul response op ons handeling (Gergen 2009). Gevolglik is die kwaliteit van ons interpersoonlike vaardighede van kernbelang vir ons belewing van gesonde funksionering (Geldenhuys en Van Schalkwyk 2019). Om dié rede is die bemeestering van hierdie vermoëns in elke ontwikkelingsfase integraal tot algehele gesondheid (vergelyk Erikson 1968). 

Adolessensie is ’n gunstige tyd vir die bemeestering of belemmering van verhoudingsvaardighede, omdat vriendskappe en wyer sosialisering buite die gesin toenemend belangriker word tydens hierdie leeffase (Van Schalkwyk en Wissing 2013). Leman (2015:63) verwys na adolessensie as die “perfekte storm” met die drie nodige elemente van (i) tieners met hul meer onafhanklike denke en fisieke, emosionele, intellektuele en spirituele ontwikkeling; (ii) portuurgroepe met soortgelyke ontwikkelingsworsteling asook eksterne sosiale druk met invloede van tegnologie; en (iii) ouers met hul persoonlike uitdagings en moontlike onvermoë tot goeie ouerskapstyle en/of gebruike.

Konteks is egter van beslissende belang vir daaglikse interaksies en vir daardie diep kwaliteitverhoudings (Gericke 2017). Alle interaksies – hetsy tussen vriende of vyande, gesinslede of professionele persone – gebeur in ’n bepaalde konteks. Die invloed van konteks is reeds wyd nagevors (Guse 2014; Khumalo, Temane en Wissing 2012; Morrison, Brown, D’Incau, Farrell en Furlong 2006). Die ontmagtigende invloed van hoërisiko gemeenskappe word aangedui deur byvoorbeeld hoë vlakke van kriminele aktiwiteite, soos diefstal en moord; hoë vlakke van geweld teen vroue en kinders en misdade geassosieer met bendegeweld, asook die hoë voorkoms van alkohol- en substansiemisbruik en meegaande disfunksionele gedrag soos gesinsgeweld (Crime Stats SA 2018; Delft Census 2011). Tog beleef talle individue en gesinne hoë vlakke van verhoudingswelstand danksy positiewe sosiale ondersteuning en veerkragtigheidshulpbronne binne hoërisiko gebiede (Byliefeldt, Van Schalkwyk en De Jager, ter perse). Ebersöhn, Loots, Mampane, Omidire, Malan-Van Rooyen, Sefotho en Nthontho (2018) beklemtoon egter die rol van kontekstuele kwesbaarheid wat kenmerkend is van postkoloniale samelewings (soos Suid-Afrika) en meegaande strukturele ongelykhede in gemarginaliseerde gemeenskappe. Een van die voortslepende kwessies van die blootstelling aan kroniese armoede is die gesukkel om aan hierdie slaggate van gebrek te ontsnap (Burger, Van der Berg, Gustafsson, Adams, Coetzee, Moses, […] en Zoch 2014).

1.1 Kontekstuele agtergrond

Navorsingstudies in die Suid-Afrikaanse konteks toon die negatiewe invloed op adolessente wat in ’n hoërisiko gemeenskap woon se algehele welstand wanneer hulle blootgestel is aan voortdurende sosiale euwels, ongesonde verhoudings, disfunksionele gesinne en armoede (Cronjé-Malan en Van Schalkwyk 2015; Grimova en Van Schalkwyk 2016; Van Schalkwyk 2019; Geldenhuys en Van Schalkwyk 2019; Walton, Avenant en Van Schalkwyk 2016). Schoeman (2016:5) verwys na die ontmagtigende invloed van hoërisiko gemeenskappe in die Kaapse Vlakte as omgewingsbesmettend (“environmentally contaminate”): “Jy kyk na ’n ou wat environmentally ge-contaminate is van dag 1. Sy environment was hostile toe hy gebore is. Sy ma is op drugs, sy pa is in die tronk. Daar’s twee druglords af in sy pad, daar’s twee gangs in sy pad, en daar’s skietery wat hy moet luister van kleins af. Dis nie dat hy ’n keuse maak om dié goed te doen nie, hy is environmentally ge-contaminate.” Jones (2019:11) verwys na die skrikbewind van bendes in die Kaapse Vlakte, met die duidelike boodskap dat hul terreurbewind meer behels as die teenwoordigheid van “ongunstige karakters” en dwelmmisbruik, maar ook aan kinders en jongmense ’n ongesonde alternatief bied vir vinnige finansiële gewin en ’n sin van behoort. Bogenoemde voorbeelde dien as praktiese illustrasies van die belewings en leefwerklikhede van kinders en adolessente op die Kaapse Vlakte.

Naas hierdie ernstige samelewingskwessies verwys Hamman en Kruger (2017; sien ook Schoon 2012) na die destruktiewe invloed van skinderpraatjies op verhoudings, aangesien hierdie persoonlike inligting altyd in ’n bepaalde verhoudingskonteks gekommunikeer word. Hierdie navorsers meld dat skinder algemeen voorkom tussen adolessente meisies in lae-inkomste-gemeenskappe met die doel om op ’n indirekte manier aggressie te ontlok. Hierdie “verhoudingsboelies” gebruik taktieke soos sosiale uitsluiting en die verspreiding van gerugte, met uiters negatiewe gevolge vir die slagoffers. Dit is duidelik dat die kompleksiteit van sosiale euwels veel meer behels as die somtotaal van erge armoede, hoë vlakke van misdaad, tienerswangerskappe, hoë skolastiese uitvalsyfers en gebroke gesinne.

In teenstelling met hierdie prentjie toon Diener (1984) en Diener en Biswas-Diener (2011) dat die gelukkigste mense wêreldwyd sterk en betekenisvolle verhoudings beleef. Verdere empiriese getuienis dui daarop dat mense met hoë tellings in die verhoudingsdomein ook goed vaar rakende ander aanwysers van welstand (Delle Fave, Brdar, Freire, Vella-Brodrick en Wissing 2011; Delle Fave e.a. 2013). Hierdie aanwysers dui op byvoorbeeld die gereelde belewing van positiewe emosies soos dankbaarheid en hoop, volhardende pogings om probleme te bowe te kom en betekenisvolle bestaan.

Compton en Hoffman (2013) toon dat verhoudingswelstand op ’n beduidende manier menslike geluk, lewensbevrediging en algehele welstand beïnvloed. ’n Onlangse Suid-Afrikaanse studie toon dat alhoewel persone ooreenkom rakende die tipe betekenisvolle verhoudings, soos gesinne en romantiese verbintenisse, daar verskille tussen persone met hoë en lae vlakke van welstand is ten opsigte van die redes waarom hierdie verhoudings belangrik is (Gericke 2017).

1.2 Grondrede

Die verkenning van adolessente se verhoudingswelstand in ’n hoërisiko omgewing is belangrik omdat interpersoonlike gesondheid bepalend is vir persoonlike en kollektiewe welstand (Nelson en Prilleltensky 2010). Alhoewel welstandstudies en die bevordering daarvan wêreldwyd toegepas word in Westerse lande, argumenteer wetenskaplikes toenemend vir die kontekstuele verstaan van strukturele toestande vir soortgelyke navorsing in die lande van die globale Suide (Lazarus, Seedat en Naidoo 2017; Petty 2018; Prilleltensky 2012). Sulke studies kan die eiesoortige beperkings asook unieke sterktes van byvoorbeeld spesifieke Suid-Afrikaanse hoërisiko gemeenskappe beskryf (Van Schalkwyk 2019). Om dié rede is dit belangrik om die verhoudingswelstand van adolessente wat in ’n spesifieke hoërisiko gemeenskap in die Wes-Kaap of Kaapse Vlakte woon en funksioneer te verken, sodat hul verhoudingsdinamiek in hierdie gevaarlike leefkonteks beter verstaan en bevorder kan word – asook met die oog op hul toekomstige funksionering as volwassenes.

Die bestudering van verhoudingswelstand as ’n fundamentele menslike hulpbron en die bevordering daarvan is integraal tot die positiewe benadering van sielkunde (Ryff 2014).

 

2. Positiewe sielkunde en verhoudingswelstand – konseptuele agtergrond

Verhoudingswelstand is ’n belangrike aanduider van positiewe funksionering en psigososiale gesondheid in verskeie kontekste (Gericke 2017). Gesonde verhoudings, hoë vlakke van veerkragtigheid en die gereelde belewing van positiewe emosies is aanduiders van adolessente se positiewe funksionering en algehele welstand (Fredrickson 2009; Keyes 2007; Seligman 2011; Van Schalkwyk en Wissing 2010). Studies in die Suid-Afrikaanse konteks toon dat die verhoudingsvaardighede van persone met hoë vlakke van welstand verskil van dié van diegene wat laer vlakke van algehele welstand beleef (Gericke 2017). Hierdie navorsingstudie toon dat wedersydse vervulling en ’n oriëntasie tot die goeie kenmerkend is van ’n eudaimoniese benadering, terwyl die vervulling van persoonlike behoeftes en ’n meer selfgesentreerde oriëntering kenmerkend is van ’n hedoniese benadering. Gericke (2017) meld dat verhoudingswelstand as ’n integrale, komplekse verskynsel verskil in dinamiek vir persone wat hoër of laer welstandsvlakke meet. Dit beteken dat indien adolessente hoër vlakke van algehele welstand beleef, hulle dan waarskynlik goeie–kwaliteit- interpersoonlike verhoudings sal geniet.

Keyes (2005) se teoretiese model vir algemene welstand was rigtinggewend vir hierdie navorsingstudie. Die begrip verhoudingswelstand sluit aan by Keyes (1998) se domein van sosiale welstand en fokus op die kwaliteit van verhoudings wat tot persoonlike of psigologiese welstand bydra (Mahali e.a. 2018). Dit behels ook die toegang tot sosiale ondersteuning en die bou van netwerke om hierdie voedende interaktiewe verbintenisse te versterk (Bess en Doykos 2014). Verhoudingswelstand omvat dus verhoudings met die self, met ander (byvoorbeeld familie en vriende), romantiese bande, en ’n spirituele verhouding met God (Khumalo, aangehaal in Wissing e.a. 2014).

Positiewe sielkunde onderskei tussen die hedoniese (lekker belewenisse gekenmerk deur positiewe emosies en plesier) en eudaimoniese benaderings (sinvolle belewings en positiewe funksionering) van welstand (Keyes, Shmotkin en Ryff 2002; Waterman 2013). In hierdie opsig is dit belangrik om te onderskei tussen jongmense se (soms kortstondige) genieting van romantiese verhoudings en seksuele aktiwiteite (Myers 2018) en hul sinvolle belewings van moederskap (Van Schalkwyk 2019) wat ook intense negatiewe ervarings, byvoorbeeld fisieke misbruik en negatiewe emosies soos teleurstelling, kan insluit (Kruger, Van Straaten, Taylor, Lourens en Dukas 2014). Dit is duidelik dat sowel kortstondige genieting as langtermyn- vervullende belewings hoort tot die kern van menslike bestaan. Die kwaliteit van ons verhoudings as interaktiewe verbintenisse bepaal egter ons persoonlike en kollektiewe welstand (Prilleltensky 2004; 2012). 

Adolessente wat in ’n hoërisiko gemeenskap woon, het daagliks te make met ’n omgewing wat hul persoonlike en verhoudingswelstand bedreig. Ons het getoon dat gesonde verhoudings van beslissende belang is vir positiewe funksionering en dat die ontwikkelingsfase van adolessensie gulde geleenthede bied om hierdie vaardighede te bemeester.

Die navorsingsprobleem kan soos volg saamgevat word: Verhoudingswelstand is die bepalende faktor vir persoonlike en kollektiewe welstand (Prilleltensky 2012). Die kwaliteit van ons interpersoonlike sterktes en alledaagse verbintenisse is belangrik vir verhoudingswelstand. Kontekstuele kwesbaarheid en meegaande strukturele ongelykhede behels egter bedreigings vir verhoudingswelstand. Die leeffase van adolessensie behels daardie moontlikhede vir die bevordering of belemmering van interpersoonlike gesondheid. Gevolglik is dit so dat indien adolessente in ’n hoërisiko gemeenskap woon, die vele bedreigings vir hul verhoudingswelstand dan nie ontken kan word nie. Dit blyk dat die verkenning die verhoudingswelstand van adolessente wat in ’n hoërisiko konteks woonagtig is, van deurslaggewende belang is.

 

3. Navorsingsvraag 

Die navorsingsvraag is soos volg geformuleer: Wat is die aard van adolessente se verhoudingswelstand in ’n hoërisiko gemeenskap?

 

4. Doel van die navorsing

Die doel van die kwalitatiewe studie is om ’n groep Suid-Afrikaanse adolessente in die konteks van ’n bepaalde hoërisiko gemeenskap op die Kaapse Vlakte se sieninge en belewings van verhoudingswelstand te verken.

 

5. Navorsingsmetodologie

In hierdie afdeling word die navorsingsbenadering, etiese kwessies en prosedure met betrekking tot data-insameling en data-ontleding beskryf. 

5.1 Kwalitatiewe benadering

Die kwalitatiewe benadering was belangrik om die deelnemers se gedetailleerde beskrywings van hul sosiale werklikheid te bekom (Colorafi en Evans 2016). Hierdie inligting is van beslissende belang as ’n tipe bloudruk om adolessente in hierdie konteks se verhoudingswelstand te verstaan ten einde dit sinvol te versterk en te bevorder. Gevolglik is ’n kwalitatiewe beskrywende navorsingsontwerp (Colorafi en Evans 2016) gebruik ten einde die “hoe” van die navorsing te rig om adolessente (“wie?”) se verhoudingswelstand (“wat?”) in ’n hoërisiko gemeenskap (“waar?”) te verken. Hierdie navorsingsontwerp is uiters gepas vir gesondheidswetenskappe, omdat mense se beskrywende response inligting bied van hul belewings in ’n spesifieke plek, toegelig met voorbeelde (Colorafi en Evans 2016).

5.2 Navorsingsprosedure 

5.2.1 Etiese kwessies

Toestemming is van die etiekkomitee van Noordwes-Universiteit verkry (NWU-00060-12-A1). Die nodige toestemming is ook verkry van die Wes-Kaapse Departement van Onderwys, die skoolhoofde van drie gekose skole in die hoërisiko gemeenskap, en deelnemers se ouers/wettige voogde (geskrewe ingeligte toestemming), asook die instemming van deelnemers. Vertroulikheid en anonimiteit is verseker deur toegewyste kodes eerder as die name van respondente en skole te gebruik. Die transkribeerder het ’n ooreenkoms van vertroulikheid onderteken en alle opnames is vernietig nadat die opgeneemde data getranskribeer is. 

Die risiko vir hierdie navorsing was hoog, omdat die meeste deelnemers jonger as 18 jaar oud was en woonagtig was in ’n hoë-risiko gemeenskap. Om hierdie rede is addisionele stappe gedoen om enige vorm van gedwonge deelname te beperk, byvoorbeeld deur die gebruik van “hekwagters”, naamlik die onderskeie skoolhoofde, asook deur mediators, naamlik persone vir wie die potensiële deelnemers vertrou, te gebruik in die proses om deelnemers te werf. Verder is die deelnemers se vrywillige deelname deurentyd beklemtoon; hulle was ten volle bewus van die navorsingsproses met hul ouers/wettige voogde se ingeligte toestemming. Addisionele beskermingsmaatreëls is getref, soos monitering en tussentydse verslaggewing rakende die welsyn van die deelnemers, deur die toegang tot beraders te verhoog en betrokkenheid van hekwagters (skoolhoofde) as adviseurs. Dit was duidelik dat die nodige maatreëls om die beskerming van die deelnemers te verseker voldoende was: Die deelnemers het deelname aan die navorsing op ’n positiewe manier beleef; hulle was gretig om in ’n veilige ruimte oor hul verhoudings te gesels; en hulle het die uitgangspunt van verhoudingswelstand versus gerigtheid op kliniese toestande waardeer. 

5.3 Deelnemers

Die adolessente deelnemers van drie openbare sekondêre skole in die hoërisiko gemeenskap is genader en die navorsing is by die skole gedoen. ’n Gerieflikheidsteekproefneming is gebruik.

Deelnemers tussen 12 en 18 jaar oud is genooi om deel te neem aan die studie om ’n diepgaande begrip van hul verhoudingsbelewings in dié gemeenskap te verkry (Heppner en Heppner 2004). Twaalf leerders van drie gekose sekondêre skole (ses manlike en ses vroulike adolessente) van graad 8 tot graad 12 is genooi om deel te neem. Deelnemers moes aan insluitende kriteria voldoen; deelnemers was byvoorbeeld ingeskrewe leerders aan een van die drie geselekteerde skole (graad 8 tot graad 12) in die hoërisiko gemeenskap; leerders se ouderdom was 12–18 jaar; leerders kon deel wees van enige kulturele groep met ’n goeie begrip van Afrikaans of Engels; vrywillige deelname; en instemming tot die opneem van data-insamelingsgeleenthede. 

5.4 Kwalitatiewe data-insameling

Data is ingesamel deur individuele onderhoude en groepsgesprekke deur die gebruik van die Wêreldkafee-metode (kyk 5.4.2 hier onder).

5.4.1 Individuele onderhoude

Elke deelnemer het ’n collage gemaak (visuele materiaal om hul lewensverhale uit te beeld), en hierdie aktiwiteit het ook gedien as ysbreker vir die semigestruktureerde onderhoud. Sekere vooropgestelde vrae het die onderhoude gerig om die deelnemers se waarnemings en belewings van verhoudingswelstand in hul gemeenskap te verken:

  • Wat beskou jy as die belangrikste verhoudings in jou lewe as adolessent?
  • Watter verhouding in jou lewe beskou jy as die gesondste verhouding?
  • Gee asseblief voorbeelde van gesonde verhoudings wat jy beleef by die huis (familie) en in die skool.
  • Waar en hoe beleef jy negatiewe verhoudings?
  • Hoe hanteer jy negatiewe verhoudings?

5.4.2 Die Wêreldkafee-metode

Schieffer, Isaacs en Gyllenpalm (2004) noem dat hierdie kwalitatiewe metode ’n proses aktiveer wat kollektiewe wysheid ontlok, asook ’n kreatiewe ruimte bied vir saam dink en praat. Hierdie metode wat wêreldwyd gebruik word, is gekies om deur gesprekke in gemeenskapsverband (skole) verhoudingswelstand en ook kultuurverskille te verken (Brown 2005). Dié strategie het ook die navorsers die geleentheid gegee om die deelnemers se nieverbale kommunikasie in groepinteraksies waar te neem. 

Die grootte van die groepe, naamlik 12 deelnemers per groep/skool vir die Wêreldkafee-besprekings, was voldoende om hul verhoudingsbelewings in ’n veilige ruimte te deel. Die deelnemers is in klein groepies van drie of vier verdeel en het die geleentheid gehad om hul insigte en belewings in klein groepformaat rondom tafels te bespreek. Hierdie opset was gunstig vir die kruisbestuiwing van idees wat diverse perspektiewe en gedeelde kollektiewe insigte behels. Die Wêreldkafee-bespreking het verder aan deelnemers die waardevolle geleentheid gegee om volgens hul eie opinies te reageer op die menings en belewings van ander deelnemers.

Die inligtinginsamelingsgeleenthede is opgeneem en hierdie opgeneemde inligting is getranskribeer met die oog op ontleding van die inligting.

5.5 Kwalitatiewe ontleding van inligting 

Tematiese ontleding is gebruik vir die induktiewe identifisering van spesifieke eienskappe van die teks op ’n sistematiese wyse (Creswell 2014). Ses stappe vir tematiese ontleding is gebruik (Creswell 2013): (i) Die navorser het die getranskribeerde data verskeie kere gelees; (ii) aanvanklike kodes is aangedui as kantaantekeninge van die getranskribeerde materiaal; (iii) moontlike temas en subtemas is gevorm deur die samevoeging van die kodes; (iv) die temas en subtemas is hersien; (v) die vasstelling en beskrywing van die temas en subtemas is gedoen; en (vi) die verslag is geskryf. 

Die ontledingsproses het voortdurende kritiese en reflektiewe handeling behels en die primêre doel was die daarstelling van inligting wat vertrouenswaardig is.

5.5.1 Vertrouenswaardigheid

Die aanduiders soos uiteengesit in die bekende werk van Lincoln en Guba (1985) is gevolg om vertrouenswaardigheid te verseker. Shenton (2004) gebruik progressiewe subjektiwiteit om die navorser se werkwyse te monitor ten einde die betroubaarheid van die bevindings te bied. Die volgende is voorbeelde van die werkwyse van die navorsers wat op vertrouenswaardigheid gemik is: 

  • Betroubaarheid (“dependability”) is verseker deur die akkurate weergee en verslaggewing van die data-insamelingsproses en algehele prosedure.
  • Geloofwaardigheid (“credibility”) is getoon deur die gebruik van riglyne vir die semigestruktureerde onderhoude met die nodige buigsaamheid en ontlontingsessies.
  • Oordraagbaarheid (“transferability”) is gedemonstreer deur die ryke en diep beskrywing van die data en die konteks van die deelnemers.
  • Ooreenkomstigheid (“conformability”) is verseker deur ander professionele persone, byvoorbeeld ’n ko-kodeerder, te betrek by die data-ontleding en die identifisering van die temas en subtemas.

 

6. Resultate

Die bevindings van hierdie studie word as hoof- en subtemas aangebied. Die volgende hooftemas is geïdentifiseer: (1) adolessente se idee van gesonde en disfunksionele verhoudings, en die subtemas: bemagtiging van positiewe interaksies, ’n kultuur van deel, en positiewe verhoudings by die huis en in die gemeenskap; (2) die funksionering van verhoudings en betekenisvolle rolspelers, en die subtemas: positiewe verhoudingsfunksionering en die familie, interaksies en vriende, en disfunksionele romantiese verhoudings; (3) verhoudingsfunksionering en die rol van emosies, en die subtema: hantering van negatiewe emosies; (4) die rol van konteks: interpersoonlike interaksies in ’n hoërisiko gemeenskap, en die subtemas: verhoudingsfunksionering en positiewe ervarings, en negatiewe invloede op verhoudingsinteraksies in die hoërisiko gemeenskap. 

6.1 Tema 1: Adolessente se idee van gesonde verhoudings 

Die groep Suid-Afrikaanse adolessente beskryf die positiewe aspekte van verhoudingswelstand as daardie konneksie of verbintenis tussen mense wat gesinne, uitgebreide familie, vriende (asook romantiese interaksies), opvoeders en lede van die gemeenskap insluit. Adolessente beskou kenmerke van gesonde verbintenisse as die belewing van positiewe verhoudingskwaliteite soos vertroue, vergifnis en die afwesigheid van negatiewe interaksies soos geweld en misbruik. Ter illustrasie van hierdie inligting word die volgende verbatim aanhalings van deelnemers gegee:

A healthy relationship is free from conflict and mistreatment. A healthy relationship has trust and confidentiality. (’n Gesonde verhouding is vry van konflik en mishandeling. ’n Gesonde verhouding behels vertroue en vertroulikheid.) (Persoonlike onderhoud, skool 1, deelnemer #5, vroulik, Xhosasprekend)

Jy gat nie kwaad uit by die huis nie. Ons sort alles net daar klaar. (Persoonlike onderhoud, skool 2, deelnemer #10, vroulik, Afrikaanssprekend) 

Subtema 1.1: Positiewe interaksies is bemagtigend. Adolessente deelnemers het vertel hoe positiewe belewings hulle bemagtig. 

Jy moenie mense afbring nie soos jy moet liewerste try om vir hulle te uplift ten alle tye of vir mense compliments gee wat hulle kan goed voel. (Wêreldkafeegroep, skool 2, deelnemer #4, vroulik, Afrikaanssprekend)

Subtema 1.2: ’n Kultuur van deel.

Die meeste deelnemers se woordgebruik het hul belewing van en blootstelling aan ’n “township culture of sharing” (Bohman, soos na verwys in Theron, Cameron, Didkowsky, Lau, Liebenberg en Ungar 2011) getoon. Hierdie verbintenis kan verstaan word in die lig van die kulture van kollektiewe praktyke (Lesejane, aangehaal in Theron e.a. 2011). Hierdie praktyke van deel bied adolessente daardie menslike hulpbronne om basiese leefmiddele te bekom (vergelyk objektiewe aspekte van welstand). Deelnemers het genoem dat hierdie kultuur van deel verder strek as bloot familielede, maar ook mense van die buurt insluit, soos bure: 

That’s a good relationship, oh leave a key at, oh this is good, leave your key, your house key next door, you trust that person enough to give them access. (Dit is ’n goeie verhouding, ja laat die sleutel by, ja, dit is goed, laat jou sleutel, jou huissleutel by die bure, jy vertrou daardie persoon genoeg om hulle toegang te gee.) (Wêreldkafeegroep, skool 1, deelnemer #3, vroulik, Xhosasprekend) 

’n Kernaspek van verhoudingswelstand is daardie verbintenisse by die skool wat dui op die nodige vertroue om met opvoeders te gesels oor sake van algemene belang. 

… gesels met jou onderwyser oor algemene goed – ander sake as skoolwerk, dit is ’n goeie verhouding. (Wêreldkafeegroep 1, skool 2, deelnemer #2, manlik, Afrikaanssprekend)

Die beskrywing van goeie verhoudingskwaliteite in die skoolkonteks behels hulpverlening wanneer adolessente slegte ervarings beleef, byvoorbeeld as die slagoffers van misdaad:

’n Gesonde verhouding by die skool is wanneer iemand jou wys wie jou geld gesteel het by die skool se snoepie; wanneer iemand jou geld gevat het, dan sal iemand op die kant net wys na die persoon – dit is ’n goeie verhouding. (Wêreldkafeegroep, skool 2, deelnemer #4, vroulik, Afrikaanssprekend)

Adolessente se beskrywing van gesonde verhoudings in terme van positiewe kwaliteite soos eerlikheid, vertroue en bedagsaamheid word deur Suid-Afrikaanse studies ondersteun (Theron en Theron 2014; Wissing e.a. 2014). Kenmerkend van praktyke van gedeelde kultuur is kwessies te make met daaglikse bestaan, soos die laat van die huissleutel by die bure. Verder is positiewe verhoudings ook beskryf as daardie hulpverlening om slegte lewensgebeure te hanteer, byvoorbeeld diefstal. Alhoewel die voorkoms van misdaad algemeen is in ’n hoërisiko gemeenskap, word positiewe verhoudings per se beskryf as in terme van dade van ondersteuning om hierdie traumatiese gebeure te oorkom (Cronjé-Malan en Van Schalkwyk 2015; Felner 2006).

6.2 Tema 2: Verhoudingsfunksionering en betekenisvolle persone 

Verhoudingsfunksionering dui op die funksionering van verhoudings met betekenisvolle persone in adolessente se lewens, soos gesinslede, uitgebreide familie en ook vriende. 

Subtema 2.1: Positiewe verhoudingsfunksionering en familie.

Hierdie bande sluit in die verhoudings met ouers, uitgebreide familie en wettige voogde.

A healthy relationship for me is like the relationship I have with my mother and father. I don't talk to my father, no it’s too embarrassing. (’n Gesonde verhouding vir my is die verhouding wat ek het met my ma en pa. Ek praat nie met my pa nie, nee dit is ’n verleentheid.) (Persoonlike onderhoud, skool 1, deelnemer #2, vroulik, Xhosasprekend)

Deelnemers het ook verduidelik dat die funksionering van hul verhouding met hul ouers nie noodwendig goed is nie, omdat biologiese bande nie outomaties dui op gesonde persoonlike verhoudinge nie. 

Yes you get bad relationships, bad relationship is, is, for example of a boy that say ja my father give me food but my father hit me also that’s not a good relationship. (Ja jy kry slegte verhouding, slegte verhouding is, is byvoorbeeld van ’n seun wat sê ja my pa gee vir my kos, maar hy slaan ook ... dit is nie ’n goeie verhouding nie.) (Persoonlike onderhoud, skool 1, deelnemer #3, manlik, Xhosasprekend) 

Hierdie belewings van gesonde en gebroke funksionering van verhoudings met betekenisvolle persone word ondersteun deur Suid-Afrikaanse studies (UNICEF 2014/2016; Van Schalkwyk en Wissing 2010; Van Schalkwyk en Wissing 2013). Hierteenoor toon Parra-Cardona, Bulock, Imig, Villarruel en Gold (aangehaal in Theron e.a. 2011) dat Meksikaanse jeug in Vancouver se hegte gesinsbande sentraal is tot hul daaglikse aktiwiteite. Meksikaanse jeug sal byvoorbeeld meer tyd daagliks deurbring met hul ouers, broers en susters en uitgebreide families as met hul vriende. Hierdie prioritisering van aktiwiteite en tyd met familie word beskryf as familismo. Mokwena (aangehaal in Theron e.a. 2011) toon dat talle Suid-Afrikaanse adolessente die meeste tyd per dag hoofsaaklik sonder toesig saam met vriende/portuurgroep deurbring.

Subtema 2.2: Verhoudingsfunksionering met vriende.

Die aard van hierdie verhoudings se funksionering behels beide positiewe en negatiewe belewings. Gesonde verhoudingsfunksionering met vriende blyk uit ope kommunikasie deurdat hulle met vertroue hul goeie belewings en ook moeilike uitdagings kan bespreek, omdat hul vriende met soortgelyke kwessies te make het.

My relationship with my friends because, because I can, I can tell them everything, everything that I can't tell my parents I tell them. (My verhouding met my vriende, want ek kan, ek kan hulle alles vertel, alles wat ek nie my ouers kan vertel nie.) (Persoonlike onderhoud, skool 1, deelnemer #1, vroulik, Xhosasprekend) 

Dit het ook geblyk dat dit belangrik is om nie vriende se veroordeling of geskinder te vrees nie.

And a healthy relationship is when a friend support you in every step of the way. (En, ’n gesonde verhouding is wanneer ’n vriend/in jou elke tree van die pad ondersteun.) (Persoonlike onderhoud, skool 2, deelnemer #4, vroulik, Engelssprekend)

Gesonde vriendskappe is ook verduidelik as die belewing van ’n diep vriendskap waar bakleiery of seksuele aktiwiteit nie noodwendig gebeur nie. 

A healthy relationship is when you abstain from fight and sex. (’n Gesonde verhouding is wanneer jy jou weerhou van baklei en seks.) (Persoonlike onderhoud, skool 1, deelnemer #4, vroulik, Xhosasprekend) 

Terwyl adolessente die voordele van hegte vriendskappe vir die belewing van ’n gesonde sin van behoort beskryf, is negatiewe verhoudings met vriende verduidelik as die verbreking van vertroue en onherstelbare skade aan hierdie bande. 

Where me and, me and one of my friends, we were, we were very close like she used to tell me everything, everything, I used to know everything about her and she used to know everything about me and then one day she just like broke it, she just broke our trust and I felt like it just broke. (Wanneer ek en, ek en een van my vriende, ons was, ons was baie “close”, soos sy sou my alles, alles vertel, ek het alles van haar geweet en sy het alles van my geweet en toe op ’n dag het sy dit net gebreek, sy het net ons vertroue gebreek en ek het gevoel dat dit net breek.) (Persoonlike onderhoud, skool 3, deelnemer #2, vroulik, Engelssprekend)

Subtema 2.3: Disfunksionele funksionering – romantiese verhouding.

Deelnemers het vertel dat slegte romantiese verhoudings beskryf kan word as wanneer fisieke geweld tussen ’n seun en meisie gebeur en die meisie ’n vorige vriend moet paai om verdere mishandelende gedrag te keer. 

Where the girl, where the boy hits the girl, where there um they can't talk about what we feel and where very second day then the girl must now walk around … go look for the food for the boy because … yes, this happened here. If you don't get food then she must run around on roads then the boyfriend comes with their stones and his everything to hit her because she can’t get food. (Wanneer die meisie, waar die seun die meisie slaan, wanneer hulle nie kan gesels oor hoe hulle voel nie, en wanner elke tweede dag dan moet die meisie rondloop … en kos soek vir die jongman want … ja, dit gebeur hier. As jy nie kos kry nie dan moet sy hardloop want haar “boyfriend” sal haar met klippe gooi omdat sy nie kos kry nie.) (Persoonlike onderhoud, skool 3, deelnemer #3, manlik, Engelssprekend) 

Alhoewel die rol van vriende en romantiese verhoudings ’n belangrike deel is van gesonde ontwikkeling tydens adolessensie, blyk dit dat dit binne die konteks van ’n hoërisiko gemeenskap bykomende en ernstige risiko’s bydra tot hierdie akkumulering van negatiewe en selfs gevaarlike interaksies.

6.3 Tema 3: Die rol van emosies

Alle adolessente deelnemers het verwys na die belangrike rol van emosies vir verhoudings, en die vermoë om veral negatiewe emosies effektief te hanteer om nie verhoudings te skaad nie. 

Subtema 3.1: Die hantering van negatiewe emosies

Die belewing van negatiewe emosies soos ontsteltenis of frustrasie is deel van die interaktiewe proses vir adolessente. Die hantering van hierdie geleefde emosies is op die volgende manier beskryf:

Jy ignoreer dit; ek huil net; ek gaan na my vriende, ek praat daaroor. Gewoonlik wanneer ek kwaad is, haat ek die persoon. Nee dan gaan sit ek alleen, ek sit net by die huis, ek wil met niemand praat nie. (Wêreldkafeegroep 1, skool 2)

I will be cross but I won't do bad, I will just get myself away from people and take a walk. (Ek sal kwaad word, maar ek sal nie slegte dinge doen nie. Ek sal myself net verwyder en ’n ent gaan stap.) (Wêreldkafeegroep 3, skool 1, deelnemer #3, vroulik, Xhosasprekend)

Sommige deelnemers het ook vertel dat hulle kies om na musiek te luister of om te draf of oor hul belewings van intense pyn te skryf.

We girls we write our problems into diaries, we talk to our teddy bears, we smile to our phones, we just help. (Meisies skryf oor hul probleme in hul dagboeke, ons praat met ons teddies, ons glimlag vir ons fone, ons help net.) (Persoonlike onderhoud, skool 2, deelnemer #3, vroulik, Engelssprekend)

Ek moet sokker speel. So, ek is baie baie kwaad omrede vir emosies. Ek haal my frustrasies uit op die bal. (Wêreldkafeegroep 3, skool 2, manlik, Afrikaanssprekend)

Adolessente het erken dat praat hulle help met die hantering van intense negatiewe emosies en om die belewing te verwerk (Wêreldkafeegroep 3, skool 2, deelnemer #1, vroulik, Afrikaanssprekend). Hulle het ook genoem dat hulle bewus is van sommige mans wat geweld gebruik om hul negatiewe emosies te hanteer. Die meeste manlike deelnemers het egter saamgestem dat geweld nie wys is nie, want dit lei tot meer probleme, soos die moontlikheid om uit die skool geskors te word indien die bakleiery op die skoolgronde gebeur het. Bykans alle deelnemers het ook verwys na familielede wat juis weens geweld in die tronk is. 

Die derde tema het die rol en regulering/hantering van hoofsaaklik negatiewe emosies belig. Adolessente het die konstruktiewe hantering van negatiewe emosies beklemtoon, want hulle is bewus van en het praktiese ervaring van die nadelige gevolge van destruktiewe hantering vir verhoudings. 

6.4 Tema 4: Verhoudings in ’n hoërisiko gemeenskap

Adolessente het hul verhoudings beskryf in terme van hul daaglikse interaksies in hul spesifieke omgewing.

Subtema 4.1: Funksionering (binne verhoudings) en positiewe belewings van ondersteuning in ’n hoërisiko gemeenskap.

Die positiewe interaksies wat persone in die hoërisiko gemeenskap beleef, is praktiese hulpverlening, soos die leen van ’n koppie suiker by bure of die vrymoedigheid om die huissleutel te laat by persone wat vertrou kan word sodat gesinslede toegang kan kry tot die huis. Al die deelnemers maak gebruik van taxivervoer, en respek as kernaspek van positiewe interaksie is op die volgende manier beskryf: 

You get into a taxi and there’s no gaji as some taxi’s have, so they, the taxi driver usually asks the person in front to collect the money from the other passengers, so it’s a good relationship because that person trusts that stranger enough to, to say okay you can collect my money. (Jy klim in ’n taxi en wanneer daar nie ’n “gaji” is nie (soos sommige taxi’s het), dan vra die taxibestuurder gewoonlik die persoon wat voor sit om die geld te kollekteer van die ander passasiers, so dit is ’n goeie verhouding want die persoon vertrou die vreemdeling genoeg om te sê okay jy kan my geld kollekteer.) (Wêreldkafeegroep 3, skool 1, deelnemer #2, vroulik, Xhosasprekend)

Subtema 4.2: Negatiewe invloede vir funksionering in die hoërisiko gemeenskap.

Al die deelnemers het verwys na die destruktiewe invloed van negatiewe rolmodelle in dié gemeenskap, byvoorbeeld die bendes, ouers en/of familielede wat middels misbruik om moeilike omstandighede soos werkloosheid te hanteer.

Gangsters, alkohol en “drugs” is deel van negatiewe verhoudings en is ook gewoonlik deel van misbruikende verhoudings, en verhoudings, soos negatiewe verhoudings oral in die Delft. (Persoonlike onderhoud, skool 3, deelnemer #4, vroulik, Afrikaanssprekend) 

En hulle (ander groepie jongens) hou my twee vrinne vas wat saam geloop het, hulle hou vir hulle twee vas en hulle slat my, en daarvandaan af het hulle heeltyd jokes gemaak en vir my was dit nie lekker nie. (Persoonlike onderhoud, skool 2, deelnemer #10, manlik, Afrikaanssprekend)

Al die deelnemers het persoonlike ervarings gehad van bendelede en hul gedrag, soos die gebruik van geweld om ander te intimideer met dreigemente wat vrees wek.

Dit was duidelik dat deelnemers se begrip en belewings van verhoudingswelstand in hierdie hoërisiko konteks gekleur is met die voortdurende blootstelling aan omgewingsgevare asook daardie goeie belewings vir oorlewing. Die negatiewe invloed van die erge gevare van hul hoërisiko gemeenskap waarbinne hierdie adolessente se alledaagse interaksies gebeur, is egter van deurslaggewende belang vir hul interpersoonlike funksionering (Walton, Avenant en Van Schalkwyk 2016).

Die vierde tema beklemtoon die fisiese asook sosiale ekologieë van welstand, soos jongmense se fisiese en kulturele omgewing (Ungar 2011).

Vervolgens bespreek ons die vier hooftemas, naamlik die resultate, in groter besonderhede.

 

7. Bespreking

Die bevindings toon die aard van adolessente se verhoudingswelstand in ’n spesifieke hoërisiko gemeenskap op die Kaapse Vlakte. Verhoudingswelstand is integraal tot individue se algehele welstand en funksionering. Adolessente in dié hoërisiko konteks se belewings van alledaagse interpersoonlike handeling kan beskryf word op ’n kontinuum van die gesonde tot die uiters negatiewe of selfs destruktiewe/disfunksionele. Dit is merkwaardig dat hierdie groep adolessente verhoudingswelstand sien as die belewing van beide positiewe en negatiewe interaksies. Dit beteken dat hulle realiteit van ongerymdhede nie ontken word nie, byvoorbeeld ’n pa wat wel sorg vir kos, maar sy kind gewelddadig straf; of ’n gesonde romantiese verhouding geskets as die afwesigheid van die negatiewe, soos die weerhouding van bakleiery. Van Schalkwyk (2019) het bevind dat die oorbekende van negatiewe belewings in hierdie hoërisiko gemeenskap oorheers, en positiewe verhoudings grootliks beskryf word in terme van die afwesigheid van risikogedrag of verhoudingsgebreke (Grimova en Van Schalkwyk 2016).

In hierdie opsig bied die model van Keyes (2005) ’n goeie raamwerk om die omvattende implikasies van gesonde of gebrekkige funksionering te verstaan. Met ander woorde, die effek van interpersoonlike funksionering in terme van psigologiese, emosionele en sosiale domeine van welstand is wederkerig (Geldenhuys en Van Schalkwyk 2019). Ook in die adolessente leeffase is die daaglikse konneksies van die allergrootste belang (Gergen 2009) – hetsy goed of sleg. Aan die ander kant is verhoudingskwaliteite beskryf as die teenwoordigheid van gesonde interpersoonlike gedrag, soos vertroue en vergifnis. Hierdie bevinding word ondersteun deur studies wat die kwaliteit of aard van alledaagse interaksies vir verhoudingswelstand belig (Benade 2013; Masten 2001; Ryff 2014). Dit beteken dat die kwaliteit van alledaagse interaksies van deurslaggewende belang is vir verhoudingswelstand. 

Die bevindings belig ook verhoudingswelstand en daardie kwessies wat uniek is tot die ontwikkelingsfase van adolessensie (Erikson 1967, 1968). Die hantering van veral intense negatiewe emosies is beklemtoon. Goeie verhoudings bied ruimtes vir die konstruktiewe hantering van negatiewe emosies, soos woede en teleurstelling. Van Schalkwyk en Wissing (2010) ondersteun hierdie bevinding dat die eerlike en goeie hantering van negatiewe emosies soos woede nodig is om slegte gevolge te vermy, byvoorbeeld wanneer ’n skoolmaat betrokke is in ’n geveg op die skoolgronde. Fredrickson (2009, 2013) se navorsing toon dat die effektiewe hantering van negatiewe emosies belangrike buffers of beskermingsnetwerke kan bied, en die belewing van positiewe emosies bied lewensbelangrike bronne vir gesonde handeling in ’n verhoudingskonteks.

Verder is ’n implisiete aspek van al die narratiewe dat verhoudingswelstand en positiewe verbintenisse ten nouste saamhang met die voorsiening van basiese/daaglikse behoeftes. Die aard van adolessente se verhoudings en hul daaglikse interaksies met ander persone in hierdie hoërisiko gemeenskap is ten nouste verbind met oorlewingskwessies. Prilleltensky (2012) se onderskeiding van die objektiewe en subjektiewe faktore van algehele welstand is van deurslaggewende belang vir hierdie bevinding. Dit beteken dat die idealistiese idee van “kinders het nie geld of materiële dinge nodig nie, maar hulle verlang wel na die liefde en verhouding met albei hul ouers” (Habelgaarn 2019:45) onrealisties blyk te wees in hierdie hoërisiko konteks. Met ander woorde, persone wat adolessente ondersteun in hul basiese behoeftes word hoog geag, en as “Moeder” of “Vader” aangespreek omdat hulle sorg vir die voorsiening van byvoorbeeld kos of geld vir klere en skoolskoene. In hierdie opsig is alledaagse interaksies, stories en vertroue integraal tot verhoudingswelstand as ’n sleutel tot oorlewing. ’n Ander aspek van ’n kultuur van “deel” ondersteun Suid-Afrikaanse studies wat toon dat vele Suid-Afrikaanse jongmense wel die intrinsieke waarde van families onderskryf, soos ’n sin van behoort (Wissing e.a. 2014). Wanneer die gesin en die uitgebreide familie egter nie slaag in die voorsiening van daaglikse behoeftes en veiligheid nie, ly hierdie verhoudings skade (Cronjé-Malan en Van Schalkwyk 2015). In hierdie opsig is verhoudingswelstand ’n waardige weg tot persoonlike en kollektiewe welstand (Nelson en Prilleltensky 2010).

Laastens: Die huidige studie het veral die fisiese en sosiale konteks van ’n hoërisiko gemeenskap belig wat vele gevare vir veiligheid, daaglikse funksionering en gewone interaksies inhou. Adolessente wat in die gekose hoërisiko gemeenskap woon, is welbekend met eksterne bedreigings vir hul verhoudings, soos gebroke verhoudings, armoede en gebrekkige behuising. Bekende Suid-Afrikaanse navorsers soos Ramphele (2002) toon reeds jare lank die gevare van swart woongebiede (“townships”) aan. Meer onlangs verwys Jones (2019:11) na bendes se gebiedsbeheer deur terreur en verskrikking op die Kaapse Vlakte as “die monopolie van geweld”. Die invloed van langtermynblootstelling aan geweld en dood behels veel meer as minderwaardige verhoudings. World Health Statistics (2018) toon die negatiewe impak op akademiese prestasie en lewensbevrediging en, uiteindelik, armoedige sosiale vaardighede wat bevolkingstrauma aanvuur (McFarlane 2018). Aan die ander kant is daar vele studies wat ook die dikwels positiewe verbintenisse van soortgelyke gemeenskappe met ’n rykdom van verhoudingsnetwerke en praktiese hulpverlening aantoon (Ebersöhn e.a. 2018). Hierdie interaksies gebeur in ’n spesifieke konteks met eiesoortige kulturele praktyke. Dit beteken dat verhoudingswelstand integraal is tot algehele welstand in hierdie konteks (Ebersöhn e.a. 2018; Mahali e.a. 2018).

Bevindings toon dat hierdie adolessente se verhoudingswelstand ernstig ingeperk is, en hierdie vele struikelblokke kan moontlik verklaar word deur die blootstelling aan die negatiewe invloede van die hoërisiko gemeenskap wat verband hou met langtermynarmoede en bevolkingstrauma. Dit is duidelik dat die geweld van armoede (vergelyk Gandhi se bekende aanhaling, “poverty is the worst form of violence”) veel meer behels as ekonomiese tekorte, soos gebreke rakende verhoudingskwaliteite en -bevoegdhede (Khumalo, aangehaal in Wissing 2014). ’n Unieke bevinding van hierdie ondersoek is dat wanneer adolessente voortdurende tekorte beleef in terme van leefbronne, hul verhoudingswelstand daaronder ly. Hierdie tekorte behels ernstige gevare vir adolessente se verhoudingswelstand, aangesien die belewing van vertrouens- en gehegtheidsbreuke in die adolessente leeffase langtermyngevolge kan inhou (Blackie 2015). Verder kan hierdie belewing van verhoudingsgebreke lei tot die groter moontlikheid dat adolessente nie hul akademiese loopbane voltooi nie en deel word van hierdie gemeenskap se hoë uitvalsyfer (meer as 52%), Suid-Afrika se buitengewoon hoë werkloosheidkoers vir jongmense (55% in die eerste semester van 2019), asook die voortsetting van gebroke gesinne en meegaande armoedelokvalle (Bylieveldt, Van Schalkwyk en Van Biljon 2019, ter perse; Ryff 2014).

Beperkings van die navorsingstudie behels dat die bevindings nie tot ander Suid-Afrikaanse hoërisiko gemeenskappe veralgemeen kan word nie, aangesien hierdie kwalitatiewe ondersoek gerig was op ’n gekose hoërisiko gemeenskap op die Kaapse Vlakte. ’n Verdere beperking is dat sommige adolessente deelnemers nie oor die nodige taalvermoë beskik het om veral hul negatiewe emosies en belewings rakende hul verhoudings te verwoord nie. Die beperking rakende die vermoë om emosies en belewings raak te beskryf kan moontlik verband hou met taalarmoede en gebrekkige taalstimulering, en/of die spesifieke eise van die leeffase van adolessensie.

Dit word aanbeveel dat ’n ingrypingsprogram ontwikkel word om adolessente in die hoërisiko gemeenskap se verhoudingswelstand doelgerig te bevorder. So ’n program sou meer behels as die blote uitroei of herstel van verhoudingsgebreke of stressors, maar sou ook die verskaffing van die nodige kennis en inoefening om gesonde interpersoonlike vaardighede te bemeester insluit.

 

10. Ten slotte

Die aard van adolessente se alledaagse interaksies en belewenisse is van deurslaggewende belang vir hulle verhoudingswelstand. Hierdie interaktiewe konneksies kan vertrouensverhoudings versterk of verskeur. Die rol van kultuurgebruike en konteks moet ingereken word wanneer die welstand van adolessente se verhoudings ondersoek word. Alhoewel die menslike vermoë tot interaktiewe verbintenis en handeling algemeen is, blyk dit dat hierdie inherente kapasiteit of vermoë nie ipso facto hoë vlakke van verhoudingswelstand impliseer nie. Om dié rede is die doelgerigte beskerming en bevordering van adolessente se verhoudingswelstand ’n sleutel tot die belewing van sinvolle bestaan versus blote oorlewing.

 

Bibliografie 

Beets, S. 2019. A school-based wellbeing programme to promote social functioning in middle childhood. Doktorale proefskrif, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus).

Benade, V. 2013. Post-graduate students’ reflections on relational qualities that may enhance relational well-being in South African school communities. Doktorale proefskrif, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus). 

Bess, K.D. en B. Doykos, 2014. Tied together: Building relational well-being and reducing social isolation through place-based parent education. Journal of Community Psychology, 42(3):268–84. https://doi.org/10.1002/jcop.21609.

Blackie, D. 2015. Child abandonment and adoption in the context of African ancestral beliefs. MA-verhandeling, Universiteit van die Witwatersrand.

Bond, M.A., I.S. Serrano-Garcia en C.B. Keys (reds.). 2017. APA handbook of community psychology: Methods for community research and action for diverse groups and issues. Vol. 2. Washington DC: American Psychological Association.

Brown, J. 2005. The world café. San Francisco: Berrett-Koehler Publishers, Inc.

Burger, R., S. van der Berg, M. Gustafsson, M. Adams, C. Coetzee, M. Moses, […], A. Zoch 2014. Poverty traps and social exclusion among children in South Africa: A report to the South African Human Rights Commission. Pretoria: SAHRC. 

Bylieveldt, L., I. van Schalkwyk en L. de Jager. Ter perse. Resilience in a high-risk community: Experiences of female educators in leadership positions. The South African Journal of Education.

Colorafi, K.J. en B. Evans. 2016. Qualitative descriptive methods in health science research. Health Environments Research and Design Journal, 9(4):16–25. http://doi.org/10.1177/1937586715614171.

Compton, W.C. en E. Hoffman. 2013. Positive psychology: The science of happiness and flourishing. Wadsworth, CA: Cengage Learning.

Creswell, J. 2014. Research design: Qualitative and quantitative and mixed methods approach. 4de uitgawe. Los Angeles: Sage Publications. 

Creswell, J.W. 2013. Qualitative inquiry and research design: Choosing among five approaches. 3de uitgawe. Thousand Oaks: Sage Publications.

Crime Stats SA. 2018. Crime stats. http://www.crimestatssa.com/topten.php (25 Mei 2018 geraadpleeg).

Cronjé-Malan, L. en I. van Schalkwyk. 2015. Vroeë adolessente se persepsies van hulle primêre versorgers se betrokkenheid by die skoolgemeenskap in ’n hoërisiko gemeenskap. Koers, 80(2):1–10. https://doi.org/10.19108/koers.80.2.2226.

Delft Census. 2011. http://www.capetown.gov.za/Local%20and%20communities/Education-and-research-materials/Data-statistics-and-research/Cape-Town-census on March 2017 (14 Julie 2019 geraadpleeg). 

Delle Fave, A., I. Brdar, T. Freire, D. Vella-Brodrick en M.P. Wissing. 2011. The eudaimonic and hedonic components of happiness: Qualitative and quantitative findings. Social Indicators Research, 100(2):185–207.

Delle Fave, A., M.P. Wissing, I. Brdar, D. Vella-Brodrick en T. Freire. 2013. Cross-cultural perceptions of meaning and goals in adulthood: Their roots and relation with happiness. In Waterman (red.) 2013:227–48. 

Diener, E. 1984. Subjective well-being. Psychological Bulletin, 95(3):542–75. 

Diener, E. en R. Biswas-Diener. 2011. Happiness: Unlocking the mysteries of psychological wealth. Boston, MA: Wiley-Blackwell. 

Ebersöhn, L., T. Loots, R. Mampane, F. Omidire, M. Malan-Van Rooyen, M. Sefotho en M. Nthontho. 2018. An indigenous psychology perspective on psychosocial support in Southern Africa as collective, networking, and pragmatic support. Journal of Community & Applied Social Psychology, 28(5):1–16. DOI: 10.1002/casp.2371.

Erikson, E.H. 1967. Identity and the life cycle. New York: International University.

—. 1968. Identity: Youth and crisis. New York: Norton.

Felner, R.D. 2006. Poverty in childhood and adolescence. In Goldstein en Brooks (reds.) 2006. 

Fredrickson, B.L. 2009. Positivity. New York: Random House.

—. 2013. Updated thinking on positivity ratios. The American Psychologist, 68(9):814–22. https://doi.org/10.1037/a0033584.

Geldenhuys, O. en I. van Schalkwyk. 2019. Investigating the relational well-being of a group of adolescents in a South African high-risk community. International Journal of Psychology and Behavioral Science, 12(2). DOI: 10.19080/PBSIJ.2019.12.555835

Gergen, K.J. 2009. Relational being: Beyond self and community. New York: Oxford University Press. 

Gericke, M. 2017. Relational well-being and levels of psycho-social well-being: An exploratory study. MA-verhandeling, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus).

Goldstein, S. en R.B. Brooks (reds.). 2006. Resilience in children. New York: Springer.

Grimova, L. en I. van Schalkwyk. 2016. Learners’ perceptions and experiences of respect in educator-learner relationships. Journal of Psychology in Africa, 26(4):343–50.

Guse, T. 2014. Activities and programmes to enhance wellbeing. In Wissing e.a. (reds.) 2014:3–15.

Habelgaarn, T.-L. 2019. Wat die hart van vol is. Kuiertydskrif, Junie, bl. 45.

Hamman, C. en L.M. Kruger. 2017. Gossip girls: The power of girls’ gossip in a low-income South African community. Critical Arts, 31(1):1–17. https://doi.org/10.1080/02560046.2017.1300822

Heppner, P.P. en M.J. Heppner. 2004. Writing and publishing your thesis, dissertation and research. A guide for students in the helping professions. Belmont, CA: Thompson Brooks/Cole. 

Jones, C. 2019. Die monopolie van geweld. Die Burger, 23 Maart, bl. 11.

Keyes, C.L.M. 1998. Social well-being. Social Psychology Quarterly, 61(2):121–40. https://doi.org/10.2307/2787065.

—. 2005. Promoting and protecting mental health as flourishing: A complementary strategy for improving national mental health. The American Psychologist, 62(2), 95–108. https://doi.org/10.1037/0003-066X.62.2.95.

—. 2007. Promoting and protecting mental health as flourishing: A complementary strategy for improving national mental health. American Psychologist, 62(2):95–108.

Keyes, C.L.M., D. Shmotkin en C.D. Ryff. 2002. Optimizing well-being: The empirical encounter of two traditions. Journal of Personality and Social Psychology, 82(6):1007–23.

Khumalo, I.P., Q.M. Temane en M.P. Wissing. 2012. Socio-demographic variables, general psychological well-being and the mental health continuum in an African context. Social Indicators Research, 105(3):419–42. DOI: 10.1007/s11205-010-9777-2. 

Kruger, L.M., K. van Straaten, L. Taylor, M. Lourens en C. Dukas. 2014. The melancholy of murderous mothers: Depression and the medicalization of women’s anger. Feminism and Psychology, 24(4):461–78. https://doi.org/10.1177/0959353514539653

Lazarus, S., M. Seedat en A. Naidoo. 2017. Community building: Challenges of constructing community. In Bond e.a. (reds.) 2017:215–34.

Leman, K. 2015. Have a happy family by Friday. Grand Rapids, Michigan: Revell Publishers.

Lincoln, Y.S. en E.A. Guba. 1985. Naturalistic inquiry. Beverly Hills, CA: Sage Publications.

Mahali, A., I. Lynch, A.W. Fadiji, T. Tolla, S. Khumalo en S. Naicker. 2018. Networks of well-being in the Global South: A critical review of current scholarship. Journal of Developing Societies, 34(4):373–400. DOI: 10.1177/0169796X18786137.

Masten, A. S. 2001. Ordinary magic: Resilience processes in development. American Psychologist, 56:227–38. doi:10.1037//0003-066X.56.3.227.

McCubbin, L.D., H.I. McCubbin, W. Zhang, L. Kehl, en I Strom. 2013. Relational well-being: An indigenous perspective and measure. Family Relations, 62(2):354–65. http://doi.org/10.1111/fare.1200.

McFarlane, A. 2018. The complexity of the relationship between alcohol consumption and trauma related disorders: Unravelling the puzzle. Kongres, South African Addiction Medicine Society (SAAMS-AMECA), Kaapstad, 31 Augustus – 1 September. (Hoofspreker.)

Morrison, G.M., M. Brown, B. D’Incau, S.L. Farrell en M.J. Furlong. 2006. Understanding resilience in educational trajectories: Implications for protective possibilities. Psychology in the Schools, 43(1):19–31. https://doi.org/10.1002/pits.20126.

Myers, B. 2018. Addressing trauma, substance use and sexual risk among young South African women. Referaat gelewer tydens kongres van South African Addiction Medicine Society (SAAMS-AMECA), Kaapstad, 31 Augustus – 1 September. 

Nelson, G. en I. Prilleltensky. 2010. Community psychology: In pursuit of liberation and well-being. 2de uitgawe. New York: Palgrave Macmillan.

Onwuegbuzie, A.J., W.B. Dickinson, N.L. Leech en A.G. Zoran. 2009. Toward more rigor in focus group research: A new framework for collecting and analyzing focus group data. International Journal of Qualitative Methods, 8:1–21.

Peterson, C. en M.E.P. Seligman. 2004. Character strengths and virtues: A handbook and classification. New York: Oxford University Press.

Petty, A. 2018. Raising the bar of parenting: What parents living in a low-cost housing project perceived to be “good enough” parenting and how they envisaged they could be helped to achieve this. Referaat gelewer by die Strengthening Families-simposium, aangebied deur Noordwes-Universiteit (Centre for Child, Youth and Family Studies), Durbanville, 15 Maart.

Prilleltensky, O. 2004. My child is not my carer: Mothers with physical disabilities and the well‐being of children. Disability & Society, 19(3):209–23. https://doi.org/10.1080/0968759042000204185.

Prilleltensky, I. 2012. Wellness as fairness. American Journal of Community Psychology, 49(1/2):1–21. DOI: 10.1007/s10464-011-9448-8.

Ramphele, M. 2002. Steering by the stars: Being young in South Africa. Kaapstad: Tafelberg.

Ryff, C.D. 2014. Psychological well-being revisited: Advances in science and practice of eudaimonia. Psychotherapy and Psychosomatics, 83(1):10–28. DOI: 10.1159/000353263.

Schoeman, L.-R. 2016. Manenberg: Vrede of stilstuipe. Die Burger, ble. 4–5. 

Schoon, A. 2012. Dragging young people down the drain: The mobile phone, gossip mobile website Outoilet and the creation of a mobile ghetto. Critical Arts: South-North Cultural and Media Studies, 26(5):690‒706.

Seligman, M.E.P. 2011. Flourish: A visionary new understanding of happiness and well-being. New York: Free Press. 

Shenton, A. 2004. Strategies for ensuring trustworthiness in qualitative research projects. Education for Information, 22:63–75. DOI: 10.3233/EFI-2004-22201.

Theron, L.C., N. Cameron, C. Didkowsky, L. Lau, L. Liebenberg en M. Ungar. 2011. A “day in the lives” of four resilient youths: Cultural roots of resilience. Youth & Society, 43(3):799–818. http://doi.org/10.1177/0044118X11402853.

Theron, L.C. en A.M.C. Theron. 2014. Meaning-making and resilience: Case studies of a multifaceted process. Journal of Psychology in Africa, 24(1):37-51. DOI: 10.1080/14330237.2014.904099. 

Ungar, M. 2011. The social ecology of resilience: Addressing contextual and cultural ambiguity of a nascent construct. The American Journal of Orthopsychiatry, 81(1):1–17. http://doi.org/10.1111/j.1939-0025.2010.01067.x

—. 2015. Working with children and youth with complex needs: 20 skills to build resilience. New York, NY: Routledge.

UNICEF. 2014. 25 Years of the Convention on the Rights of the Child: Is the world a better place for children? http://www.unicef.org/nutrition/files/CRC_at_25_Anniversary_Publication_26Sept2014.pdf (22 Julie 2018 geraadpleeg).

—. 2016. South Africa’s children: A review of equity and child rights. https://www.unicef.org/publicpartnerships/files/2016arr_humanitarianaction(1).pdf (13 Junie 2018 geraadpleeg).

Van Schalkwyk, I. 2019. Strengthening female-headed households: Exploring the challenges and strengths of mothers with substance-problems living in a high-risk community. Journal of Family Studies. DOI: 10.1080/13229400.2019.1584122.

Van Schalkwyk, I. en M.P. Wissing. 2010. Psychosocial well-being in a group of South African adolescents. Journal of Psychology in Africa, 20(1):53–60.

—. 2013. Evaluation of a programme to enhance flourishing in adolescents. In Wissing (red.) 2013:53–60.

Walton, K.L., J. Avenant en I. van Schalkwyk. 2016. Educators’ experiences of their relationships with adolescents involved in drug use. South African Journal of Education, 36(3):1–10. https://doi.org/10.15700/saje.v36n3a1188.

Waterman, A.S. (red.). 2013. The best within us: Positive psychology perspectives on eudaimonia. Washington, DC: American Psychological Association.

Wissing, M.P. 2014. Meaning and relational well-being in cross-cultural perspectives. Journal of Psychology in Africa, 24(1):41–4. DOI: 10.1080/14330237.2014.904099. 

Wissing, M.P. (red.). 2013. Well-being research in South Africa. Dordrecht: Springer.

Wissing, M.P., I.P. Khumalo en S.C. Chigeza. 2014. Meaning as perceived and experienced by an African student group. Journal of Psychology in Africa, 24(1):92–101. http://doi.org/10.1080/14330237.2014.904101.

Wissing, M.P., J.C. Potgieter, T. Guse, I. P. Khumalo en L. Nel (reds.). 2014. Towards flourishing: Contextualising positive psychology. Pretoria: Van Schaik.

Wissing, M.P. en Q.M. Temane. 2008. The structure of psychological well-being in cultural context : Towards a hierarchical model of psychological health. The Journal of Psychology in Africa, 18(1):45–56. 

World health statistics 2018: Monitoring health for the SDGs, sustainable development goals. Genève: World Health Organization. Licence: CC BY-NC-SA 3.0 IGO.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Verhoudingwelstand van adolessente in ’n Suid-Afrikaanse hoërisiko gemeenskap appeared first on LitNet.

’n Reddingsboei-omgewing vir suksesvolle leer by matriekleerlinge in toestande van veelvuldige ontneming

$
0
0

’n Reddingsboei-omgewing vir suksesvolle leer by matriekleerlinge in toestande van veelvuldige ontneming

Hettie van der Merwe, Departement van Skoolleierskap en Skoolbestuur, Universiteit van Suid-Afrika

LitNet Akademies Jaargang 17(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Hierdie artikel bespreek die onderrig-en-leerreëlings vir matriekleerlinge by ’n townshiphoërskool. Die hoërskool kon daarin slaag om sy matriekleerlinge wat aan huis- en omgewingsomstandighede van ontneming blootgestel is, suksesvol vir die matriekeindeksamen voor te berei. Met Bronfenbrenner se ekologiesestelselteorie en Bandura se selfdoeltreffendheidsteorie as teoretiese lense is ’n kwalitatiewe gevallestudieondersoek gedoen wat gebaseer is op individuele onderhoude met die skoolbestuurspan, matriekonderwysers en matriekleerlinge van die betrokke skool. Bevindinge lig die belemmerende huislike en omgewingstoestande van leerlinge uit en dit verduidelik ook die skoolbestuurspan en onderwysers se onderrig-en-leeraksies om matriekleerlinge vir die eindeksamen voor te berei. ’n Reddingsboei-omgewing is ’n omgewing waarin leerlinge die geleentheid het om te leer. Hierdie omgewing bied holistiese ondersteuning by wyse van ’n program van ekstra klasse en ’n studiekamp voor die aanvang van die matriekeindeksamen. Die bevindinge dra by tot die diskoers oor leersukses en hoe dit in ’n omgewing van veelvuldige ontneming behaal word.

Trefwoorde: armoede; holistiese ondersteuning; leersukses; matriekleerlinge; onderrig-en-leeraksies; selfdoeltreffendheid; sosiale mobiliteit; townshipomgewing; veelvuldige ontneming

 

Abstract

A life buoy environment for successful learning of matric learners in conditions of multiple deprivation

This article discusses the teaching and learning arrangements for matric learners at a township school. The school succeeded in preparing its matric learners adequately for the final matric examination, despite these learners’ exposure to conditions of multiple deprivation. The ecological systems theory by Bronfenbrenner and the self-efficacy theory of Bandura served as theoretical lenses for the qualitative study, as part of which individual interviews were conducted with the school management team, teachers teaching grade 12 learners, and grade 12 learners themselves. Research findings elicited details of learners’ debilitating home and environmental conditions and of the teaching and learning actions by the school management team and teachers to prepare matric learners adequately for the final examination. The opportunity to learn functions as a life buoy environment for learners. This environment provides holistic support to matric learners by means of extra classes and a study camp event two weeks before the final examination commences. The findings contribute to the discourse on successful learning and how this success is achieved in an environment of multiple deprivation.

Accountability for classroom achievement is mainly defined by academic outcomes in standardised tests. School leaders account for these outcomes by focusing on mission formulation, instructional programme management and school-learning culture promotion (Hallinger 2011:127). Teachers serve as co-managers in obtaining these outcomes by pursuing successful learning through effective teaching. The specific context determines the construction and implementation of specific teaching and learning actions, with cognisance of learners’ own input for success. Multiple deprivation represents a specific context characterised by poverty which inhibits opportunities and attainments in education and society. This results in sustained marginalisation, fuelled by school failure. One way of countering these circumstances is arranging contextually tailor-made opportunities for successful learning. These opportunities are based on teachers’ perseverance in ensuring that learning happens and on learners’ self-initiated responses to teacher input, regardless of family and environmental conditions that might threaten to hamper them.

Ecological systems theory explains learner development as reciprocal interaction between the individual learner and other human beings, objects and symbols in the immediate and distant environment (Bronfenbrenner 1979). This development is contingent on learners’ self-efficacy levels, which serve as a primary factor fuelling their own development. The four sources of information by which learners assess their self-efficacy capacity, namely performance accomplishment, vicarious experience, verbal persuasion and emotional arousal, are dominated by performance accomplishment, as previous mastery encourages future accomplishment (Bandura 1997). Due to the interactive functioning of ecological systems, interaction between self-efficacy factors in learners’ maturing biology, their immediate family and community environment, and the societal landscape in which they are placed fuels and steers learners’ development.

Learner development in a multiple-deprived environment is inhibited by poverty, which is understood by means of five categories of deprivation with indicators for each category (Barnes, Noble, Wright and Dawes 2009:185). The category of material and income deprivation includes children living in households with no refrigerator for the safe storage of food, and no radio or television to access information. The category of deprivation due to unemployment includes children of households where no adults aged 18 or over are in employment. Education deprivation occurs in households where children in the age group 7 to 15 are not in school or are in the wrong school grade for their age. A lack of running water and electricity and crowded households where children share sleeping space with several persons of a different age or gender represents living environment deprivation. The category of adequate care deprivation includes children growing up in households where both the mother and the father are deceased, or where the mother and the father are not living with their children in the same household. These categories of deprivation negatively influence children’s development and increases the reliance on schools to expose children to consistency and regularity to acquire social skills and work attitudes for possible social mobility.

The three factors determining learners’ educational achievement are the quality of parenting, the quality of schooling, and the quality of the community culture within which children grow up (Barnes and Horsfall 2010:18). Although some children growing up in a context of deprivation achieve well at school due to sound family networks, many children are acutely exposed to deficient parenting, combined with debilitating community conditions. These children are dependent on effective schools where realistic mission formulation, constructive instructional programme management, and consistent learning culture promotion result in successful learning. Many deprived learners are exposed to constant noise within their homes and the external environment and this inhibits focused studying. To ensure a successful learning environment for these learners, the school management team and grade 12 teachers of the selected school established an away-from-township environment on the school premises. With this environment – consisting of extra classes on Saturday mornings during the first three school terms and on the mornings of one week in the April school holiday and two weeks in the July school holiday – learners receive holistic support on a regular basis. This holistic support entails emotional assistance with personal problems, the provision of a nutritious meal and the facilitation of core subject matter, the latter based on a timetable that prioritises challenging subjects. The extra classes conclude with a study camp event a fortnight before the final matric examination commences.

Holistic teaching in a supportive learning environment guides learners to interactive engagement with subject content, encouraging the positive functioning of the four sources of self-efficacy development. In this regard, supportive learning – through critical teaching prompting realistic expectations – ensures that learners from multiple-deprived environments achieve positive outcomes in the final matric examination. However, a score of 30% for some subjects (including languages) and an extended matric year for learners, many of whom have been promoted to subsequent grades despite failing, portray inferior attainment. Lowered efficacy expectations because of the protracted time taken to obtain a substandard pass mark impede diligent attainment of essential knowledge and skills. Even so, the opportunity to learn by means of a life buoy environment consisting of extra classes and a study camp provides receptive township learners with the possibility of social mobility, all based on examination success that is related to convincingly attaining essential knowledge and skills for potential employability. Questions remain about the extent to which this life buoy environment equips multiple-deprived learners with deep learning that can generate competence for further study and that may, ultimately, result in first-generation families with higher education qualifications. Answers are also needed about the extent to which this life buoy environment ensures the kind of deep learning that prepares deprived learners for further studies in challenging courses with training in scarce skills for high-status employment possibilities. Only when deep learning of such an extent is achieved will the perpetual marginalisation of learners from multiple-deprived environments be ended, despite the lack of both quality parenting and a community culture conducive to learning.

Keywords: holistic support; learning success; matric learners; multiple deprivation; poverty; self-efficacy; social mobility; teaching and learning actions; township environment

 

1. Inleiding

Onderrigleierskap vervat al die onderrig-en-leeraksies wat by skole uitgevoer word om te verseker dat leer plaasvind. Hierdie leersukses word deur akademiese uitkomste in gestandaardiseerde toetsing, soos byvoorbeeld die Trends in International Mathematics and Science Study- (TIMSS)-toetsing, omskryf. Skoolleiers bewerkstellig hierdie onderrig-en-leersukses deur op missieformulering, die bestuur van die onderrigprogram en die bevordering van ’n leerkultuur te fokus (Hallinger 2011:127). Onderwysers dien as medebestuurders om hierdie uitkomste te behaal deur suksesvolle leer aan die hand van doeltreffende onderrig na te streef. Leersukses hang af van die mate waartoe die omgewing onderrig en leer bevorder en die mate waartoe leerlinge aanspreeklikheid vir hul eie leer neem (Barnes en Horsfall 2010:19). Veelvuldige ontneming het betrekking op ’n spesifieke omgewing met faktore wat leersukses belemmer.

My artikel handel oor die onderrig-en-leeraksies by ’n gemeenskapskool wat ten doel het om leerders in staat te stel om ’n positiewe uitkomste in die matriekeindeksamen te behaal. My navorsing is deur die volgende navorsingsvraag gerig: Wat dra tot die leersukses van matriekleerlinge in omstandighede van veelvuldige ontneming by ten einde aanvaarbare akademiese uitkomste in die matriekeindeksamen te behaal?

Omdat gemeenskapskole algemeen as townshipskole bekend staan, met ander woorde skole in stedelike en buitestedelike gebiede wat meestal deur swart mense bewoon word, word die term townshipskool in hierdie artikel gebruik. Teen die agtergrond van die talle disfunksionele skole in ons samelewing, is hierdie townshipskool se onderrig-en-leeraksies ’n reddingsboei-omgewing van uitnemendheid en ’n voorbeeld van wat moontlik is. Hallinger (2011:138) beklemtoon dat nie net inligting oor wat “werk” nie, maar ook inligting oor wat “in verskillende omgewings werk”, verkry moet word. Die onderrig en leer by die bepaalde townshipskool wat verseker dat leerlinge die matriekeindeksamen slaag, dien as voorbeeld van wat in ’n Suid-Afrikaanse omgewing van veelvuldige ontneming “werk”. My argument is dat begrip van suksesvolle onderrig en leer in ’n omgewing van veelvuldige ontneming bydra tot die diskoers oor die reël van leersukses in die algemeen.

In my bespreking van onderrig en leer by die townshipskool gebruik ek Bronfenbrenner (1979) se ekologiesestelselteorie en Bandura (1977) se selfdoeltreffendheidsteorie as teoretiese lense. Ek bespreek ook onderrig en leer in townshipskoolomgewings. Hierdie teoretiese onderbou rig die empiriese ondersoek waarby lede van die skoolbestuur, matriekonderwysers en matriekleerlinge van die betrokke townshipskool betrek is. Ek sluit my artikel af met ’n bespreking van die navorsingsbevindings wat verband hou met onderrig-en-leeraksies ter wille van positiewe uitkomstes in die matriekeindeksamen danksy geleenthede vir suksesvolle leer.

 

2. Onderwys in townshipomgewings

Ten spyte van die demokratisering van onderwys in postapartheid Suid-Afrika is 60% van openbare skole disfunksioneel (Bloch 2009:59; Msila 2017:91). Ondanks die verbreding van toegang tot onderwys vir voorheen gemarginaliseerde gemeenskappe, die herverdeling van hulpbronne aan voorheen benadeelde skole, die verhoging van staatsubsidies aan leerlinge by wyse van ’n geenskoolgeld-beleid, en voedingskemas by skole in benadeelde gemeenskappe, bly ’n tweevlakstelsel vir openbare skole voortbestaan (Smith 2011:80; Maringe en Moletsane 2015:348). Hierdie tweevlakstelsel word gekenmerk deur 25% funksionele teenoor 75% disfunksionele openbare skole (Spaull, 2012:1). Disfunksionele enkelrasskole in townships gaan mank aan gebrekkige onderrig met beperkte leermoontlikhede (Msila 2017:94). Hierdie tweevlakstelsel bestaan steeds, ondanks die staat se voorneme om die rasseskeiding uit te wis wat voor 1994 geheers het toe swart en wit Suid-Afrikaners in afsonderlike gebiede gewoon en in afsonderlike skole skoolgegaan het (Evans en Cleghorn 2014:2). Hoewel die reg om ’n skool te kies ’n uittog na voormalige wit, bruin- en Indiërskole tot gevolg gehad het, bly voormalige swart skole swart (Spaull 2015:34). ’n Skoolkeuse het baie swart leerlinge in staat gestel om gehalteonderwys in skole wat voorheen uitsluitlik vir wit, bruin- of Indiërleerlinge voorsiening gemaak het, te ontvang (Msila 2005:180). Doeltreffende skole beskik egter nie oor onbeperkte ruimte nie, en baie ouers van leerlinge in townshipskole het nie die finansiële vermoë om te verhuis ten einde gehalteonderwys vir hul kinders te reël nie (Lumby 2015:402). Bruin-, Indiër- en al hoe meer wit gesinne is ook aan ontneming onderhewig omrede gehalteonderwys nie meer op ras berus nie, maar op sosio-ekonomiese status.

Erge armoede, oorbevolking en lae vlakke van opvoeding het die stedelike en buitestedelike gebiede wat as townships bekend geword het, voor en gedurende apartheid gekenmerk (Wills en Hofmeyr 2018:4). Hierdie toestande heers steeds en meer informele nedersettings verrys in hierdie gebiede. Baie kinders wat uit hierdie toestande kom, is nie skoolgereed en ontvanklik vir onderrig en leer nie (Bloch 2009:58; Spaull 2015:35). Hierdie gebrek aan skoolgereedheid hou in ’n groot mate verband met die toestande wat in huishoudings met ’n lae sosio-ekonomiese status heers. Toestande soos fisieke verwaarlosing, sielkundige letsels, ’n leef-vir-die-oomblik-ingesteldheid, tienerswangerskappe, gesinsverbrokkeling en bendes belemmer normale leer en strem hierdie kinders se ontwikkeling (Burnett 2010:31; Hick 2016:285). Hulle ontbeer ook dikwels goeie primêre versorging wat gekenmerk word deur onvoorwaardelike liefde en steun, harmonieuse wedersydse interaksie, en verryking deur toenemend ingewikkelde aktiwiteite (Jones en Schipper 2015:10). Jensen (2009:136) en Bick en Nelson (2017:2) beklemtoon dat sodanige emosionele verwaarlosing die produksie van nuwe breinselle verhinder en sosiale en kognitiewe disfunksie in die benadeelde kind kan veroorsaak.

Armoede in ’n gemeenskap van ontneming gaan met beperkte geleenthede vir goeie onderwys en swak skoolprestasie gepaard (Wills en Hofmeyr 2018:6). Dit kortwiek mense se sosiale mobiliteit en handhaaf hulle sosio-ekonomiese uitsluiting en randfiguurstatus (Swift 2003:61; Maringe en Moletsane 2015:348). Een manier om dit die hoof te bied, is om voorsiening te maak vir suksesvolle leer. Meelewende onderwysers wat leersukses nastreef om positiewe akademiese uitkomste te verseker, is belangrik (Smith 2011:99; Smit 2014:120). Ewe belangrik is dat leerlinge, ongeag belemmerende gesins- en omgewingsomstandighede, die verantwoordelikheid vir hul eie leer op hulself neem (Barnes en Horsfall 2010:19). In my artikel verteenwoordig onderwyserbetrokkenheid ’n rolmodelverpligting om ’n naskoolse studieomgewing te skep waar leer suksesvol kan plaasvind. Suksesvolle leer verwys na die verwerwing van kennis en vaardighede om ’n matriekkwalifikasie oortuigend te verwerf.

 

3. Die teorieë van ekologiese stelsels en selfdoeltreffendheid as ’n grondslag vir onderrig en leer

Volgens die ekologiesestelselteorie vind menslike ontwikkeling plaas deurdat sosiaal georganiseerde substelsels interaktief funksioneer om optimale groei te steun of te belemmer (Bronfenbrenner 1979). Hiervolgens is leerlingontwikkeling ’n proses van interaksie tussen die individuele leerling en ander mense, voorwerpe en simbole in die onmiddellike en wyer omgewing oor ’n lang tydperk wat óf tot bekwaamheid óf tot disfunksie lei. Binne hierdie netwerk van invloede wat op mekaar inwerk, reageer leerlinge op omgewingstimuli deur kennis te verwerk en vaardighede te verwerf as bydrae tot hul eie ontwikkeling en lewensomstandighede (Bandura 1977). Hierdie bydrae word bepaal deur leerlinge se selfdoeltreffendheidsvlakke, wat dien as ’n primêre faktor om hulle te motiveer om take te verrig.

Selfdoeltreffendheid, wat gegrond is op ’n uitkomsverwagting, is onderliggend aan individue se vertroue in hul vermoë om bepaalde gedrag suksesvol uit te voer (Bandura 1997). ’n Uitkomsverwagting het betrekking op leerlingdeelname aan onderrig en leer, met die verwagting dat insette tot ’n bepaalde uitslag sal lei, soos die verbetering van kennis en vaardighede met gepaardgaande positiewe akademiese uitkomste. Die wilskrag om ’n taak uit te voer word bepaal deur die moeilikheidsgraad van die taak, die leerling se oortuiging van sy of haar persoonlike vermoë, en die mate waartoe die leerling oor die algemeen sukses met die uitvoer van take behaal (Bandura 1997). Dit beteken dat prestasie en motivering deur individue se persepsie van hul eie vermoë bepaal word. Met ander woorde, as leerlinge glo hulle kan ’n taak suksesvol uitvoer, sal hulle die vermoë verwerf om dit uit te voer, ongeag of hulle aanvanklik die vermoë gehad het.

Die vier wyses waarop leerlinge se selfdoeltreffendheidsvermoë ontwikkel, is werksverrigtingprestasie, eweknievoorbeelde, mondelinge oorreding en emosionele stimuli (Bandura 1997). Werksverrigtingprestasie (bemeesteringservaring) oorheers die ander drie in die sin dat vorige bemeestering toekomstige bemeestering veronderstel. Leerlingsukses steun swaar op selfdoeltreffendheid, terwyl ’n gebrek aan sukses selfdoeltreffendheid ondermyn, veral wanneer ’n gebrek aan sukses beleef word voordat ’n gevoel van selfdoeltreffendheid stewig gevestig is. Leerlinge ontwikkel hoë of lae selfdoeltreffendheidsvlakke deur die eweknievoorbeelde van portuurgroeplede of ander mense se prestasies (Bandura 1997). Om te aanskou hoe ander mense uitdagende aktiwiteite sonder nadelige gevolge uitvoer, skep dit die verwagting van eie sukses deur volharding met verhoogde insette (Bandura 1977). Wanneer leerlinge sien hoe ander leerlinge sukses behaal, verhoog hulle eie selfdoeltreffendheidsvlakke, terwyl hulle portuurgroep se gebrek aan sukses hul eie selfdoeltreffendheidsvlakke negatief beïnvloed.

Die verhoging van selfdoeltreffendheid deur mondelinge oorreding hang af van die geloofwaardigheidsvlak van die oorreding en die oorrederbron (Schwarzer en Hallum 2008:159). Leerlinge vind nie by leë lofprysinge baat nie, maar floreer op die opregte erkenning van eerlike onderwysers. Hoewel die wek van selfdoeltreffendheidsverwagtinge deur mondelinge oorreding algemeen is, is hierdie verwagtinge minder doeltreffend as persoonlike prestasie (Bandura 1977). Mondelinge oorreding het egter trefkrag as dit ontmoedigend is en selfdoeltreffendheidsvlakke verlaag (Schwarzer en Hallum 2008:160). Veeleisende situasies wat deur ’n emosionele appèl gekenmerk word, het ’n invloed op persoonlike bekwaamheid in die sin dat hoë vlakke van emosionele appèl prestasie verswak (Bandura 1977). Die persepsie van onbekwaamheid kan tot hoë vlakke van angs lei wat die angs wat normaal is vir die werklike bedreigingsituasie (soos eksamen skryf) ver oorskry.

Vanweë die interaktiewe funksionering van ekologiese stelsels word leerlinge se ontwikkeling gerig deur die interaksie tussen selfdoeltreffendheidsfaktore in hul biologiese ontwikkeling, hul gesins- en gemeenskapsomgewing en die sosiale landskap waarin hulle hul bevind (Bandura 1977; Bronfenbrenner 1979; Jensen 2009; Jones en Schipper 2015). Hierdie interaksie geld ook vir leerlinge in omgewings van veelvuldige ontneming. Die gevolg is dat leerlinge in omgewings van veelvuldige ontneming ook die onderrig wat hulle ontvang hul eie moet maak en dienooreenkomstig verantwoordelikheid vir hul eie leer en uiteindelik hul eie welsyn moet aanvaar (Barnes en Horsfall 2010; Smith 2011). Die interaktiewe funksionering van ekologiese stelsels beklemtoon dan die waarde van gehalteonderrig aan leerlinge in omgewings van veelvuldige ontneming met die oog op leersukses wat tot moontlike sosiale mobiliteit kan lei.

 

4. ’n Begrip van veelvuldige ontneming

Gesien vanuit ’n onderrig-en-leerperspektief, het veelvuldige ontneming betrekking op faktore wat suksesvolle leer verhinder. Hierdie faktore is nou verweef met sosio-ekonomiese benadeling en sluit erge armoede, die gebrek aan ’n opvoedkundig stimulerende omgewing en dissonansie tussen sosiale en kulturele betekenisbelewing in (Maringe en Moletsane 2015:348). Hoewel armoede nie noodwendig ’n aanduider van ontneming is nie, lei dit tot ontneming as dit individue se menswaardigheid aantas of hulle die geleentheid ontneem om hul persoonlike omstandighede te verbeter (Barnes e.a. 2009:183; Spaull 2015:36). Ontneming is dan die gevolg van armoedeverwante faktore wat fisiese ontwikkeling verhinder, soos om op ’n lewensbeperkende inkomste te moet oorleef, swak of geen behuising, onvoldoende voeding, en om aan ’n gesondheidsbedreigende omgewing blootgestel te wees. Ongeletterdheid, ’n gebrek aan moraliteit en beperkte kennis en insig as epistemologiese eienaarskap belemmer psigokognitiewe ontwikkeling (Whelan, Layte en Maître 2002:98; Noble, Wright, Magasela en Ratcliffe 2007:122). Armoede is relatief, want immorele dwelmhandelaars kan aansienlike materiële rykdom besit. Wanneer armoede veelvuldig van aard is en van die een generasie na die ander oorgedra word, is dit omvattend (Noble e.a. 2007:123; Wills en Hofmeyr 2018:6).

In Suid-Afrika is die armoede van kinders vanweë ontneming omvattend. Barnes e.a. (2009:185) ontleed hierdie ontneming aan die hand van vyf kategorieë van ontneming met aanduiders vir elke kategorie. Die kategorie van ontneming vanweë inkomste en materiële besit verwys na kinders wat in huishoudings grootword met geen yskas vir die bewaring van bederfbare voedsel nie, en geen radio of televisie om toegang tot inligting te verkry nie. Werkloosheid is die tweede kategorie van ontneming en sluit kinders van huishoudings in waar geen volwassenes van 18 of ouer werk het nie. Onderwysontneming as die derde kategorie van ontneming het betrekking op huishoudings waar kinders in die ouderdomsgroep 7 tot 15 nie skoolgaan nie of in die verkeerde skoolgraad vir hul ouderdom is. ’n Gebrek aan lopende water en elektrisiteit en oorvol huishoudings waar kinders hul slaapruimte met persone van verskillende ouderdomme of geslagte deel, verteenwoordig ongunstige lewensomstandighede as die vierde kategorie van ontneming. ’n Gebrek aan voldoende versorging as die vyfde kategorie van ontneming sluit kinders van huishoudings in waar die vader en moeder oorlede is of waar die vader en moeder nie albei in dieselfde huis as hul kinders woon nie (Barnes e.a. 2009:187). Die kombinasie van hierdie vyf kategorieë van ontneming het tot gevolg dat kinders skool toe gaan sonder die basiese sosiale kapitaal om ontvanklik vir volgehoue vordering te wees. Die orde en etiek van doeltreffende skole waar konsekwentheid en toegewydheid in die aanleer van sosiale vaardighede en konstruktiewe werksbenaderings gevestig word, kan hierdie leerlinge op moontlike sosiale mobiliteit voorberei (Bloch 2009:146; Spaull 2012:1).

 

5. Onderwys in toestande van veelvuldige ontneming

Leerlinge se skoolprestasie word deur drie faktore bepaal, naamlik die gehalte van ouerskap, die gehalte van onderwys en die gehalte van die gemeenskapskultuur waarin hulle grootword (Barnes en Horsfall 2010:18). Hoewel sommige kinders wat in ’n omgewing van ontneming grootword, goed op skool presteer danksy gesonde gesinsnetwerke, ly baie kinders onder gebrekkige ouerskap en ongunstige gemeenskapstoestande (Hick 2016:285). Met betrekking tot die disfunksionele skole in Suid-Afrika, word hierdie gebreke vererger deur swak onderwys as gevolg van onprofessionele onderwysergedrag (Msila 2017:91). Daar is egter skole wat sukses behaal ten spyte van belemmerende omgewingsomstandighede (Lumby 2015:408). Die sukses van hierdie skole is te danke aan realistiese missieformulering, die konstruktiewe bestuur van die onderrigprogram en die konsekwente bevordering van ’n leerkultuur (Hallinger 2011:127).

’n Haalbare skoolmissie word verwesenlik deur realistiese maar hoë verwagtinge aan leerling te stel en optimale tydsbenutting te beklemtoon (Bush 2013:6). Die konstruktiewe bestuur van die onderrigprogram verwys na kritiese maar ondersteunende toesig oor onderrig en die voortdurende kontrolering van leerlingvordering (Spillane 2006:71). Bevordering van ’n leerkultuur waarvolgens leergerigtheid gekweek word, omsluit die professionele ontwikkeling van onderwysers en die handhawing van volgehoue hoë sigbaarheid (Bisschoff en Watts 2013:24).

Om goeie onderrig en leer in ’n omgewing van veelvuldige ontneming in werking te stel vereis deernis met leerlinge wat aan ontneming blootgestel is, en ’n passie vir hul opheffing (Maringe en Moletsane 2015:349). Deernis behels dat leerlinge met empatie aangemoedig word om bereikbare uitkomstes te behaal (Kamper 2008:5). Respek vir leerlinge se menswaardigheid behels die inagneming van hul stryd om oorlewing (Lumby 2015:409). ’n Passie vir leerlinge se opheffing vind gestalte in ’n onderrigprogram waarvolgens onderwysers holistiese skoling aan leerlinge bied en hul vordering nougeset kontroleer (Smit 2014:119). Om ’n leerkultuur in omgewings van veelvuldige ontneming te verseker, vereis van skoolleiers bekwaamheid om vennootskappe aan te gaan en netwerke te vorm ten einde genoeg hulpbronne vir suksesvolle onderrig en leer te verseker (Barnes en Horsfall 2010:23). Die personeel van skole wat in omgewings van veelvuldige ontneming suksesvol is, los onderrig-en-leeruitdagings op deur onwrikbaar te glo in die potensiaal van leerlinge om ten spyte van ongunstige omstandighede persoonlik en akademies te vorder.

 

6. Navorsingsontwerp vir die empiriese ondersoek

Die doel van hierdie navorsing was om die onderrig-en-leeraksies waarvolgens matriekleerlinge in omstandighede van ontneming suksesvolle leergeleenthede gebied word, te verstaan. Ek herhaal die navorsingsvraag: Wat dra tot die leersukses van matriekleerlinge in omstandighede van veelvuldige ontneming by ten einde aanvaarbare akademiese uitkomstes in die matriekeindeksamen te behaal? Om antwoorde op hierdie vraagstelling te kry was my empiriese ondersoek op ’n interpretivistiese paradigma met ’n kwalitatiewe navorsingsontwerp geskoei. Daarvolgens is data aan die hand van semigestruktureerde individuele onderhoude ingesamel.

Met inagneming van gerief en toeganklikheid (Cohen, Manion en Morrison 2011:109) en die doelgerigte keuse van ’n navorsingsomgewing (Toma 2011:264), is ’n hoërskool gekies waarvan die matriekslaagsyfer van 29% in 2011 tot 52% in 2016 verbeter het. Die hoërskool is in ’n townshipomgewing geleë waar armoede heers. Leerlinge woon in informele nedersettings waar hulle ouers ’n bestaan uit informele handel en deeltydse werk maak. Verbeterde matriekuitslae by hierdie skool is te danke aan daadwerklike onderrig-en-leeraksies om matriekleerlinge tot leersukses aan te spoor

Semigestruktureerde, individuele onderhoude is met die skoolbestuurspan, wat die skoolhoof, adjunkhoof en twee departementshoofde ingesluit het, gevoer. Aangesien die skoolbestuurspan verantwoordelik was vir die reël van en toesig oor onderrig-en-leergeleenthede vir matriekleerlinge, is die bydrae wat hulle tot die insamel van inligtingryke data kon maak, as waardevol beskou. Semigestruktureerde individuele onderhoude is ook met ses onderwysers en agt matriekleerlinge gevoer. Onderwyserdeelnemers moes minstens vyf jaar ervaring in die onderrig van matriekleerlinge by die spesifieke skool hê. Dit is as genoegsaam geag om gesaghebbende mededelings oor matriekonderrig binne die bepaalde omgewing te kon maak. Leerlingdeelnemers het goeie, gemiddelde en swak presteerders ingesluit om voorsiening te maak vir ’n geheelbeeld van leersukses in ’n omgewing van veelvuldige ontneming.

Met inagneming van die aanbevelings van Toma (2011:267) oor deeglikheid met die insameling van data, is triangulasie bewerkstellig deur die antwoorde van die deelnemers op dieselfde vraagstelling naas mekaar te oorweeg. Deur verdere vraagstelling ter wille van groter helderheid, wat deur intensiewe betrokkenheid bewerkstellig is (onderhoude het minstens ’n halfuur geduur), kon tussen vae en spesifieke stellings onderskei word. In dié verband het kwalitatiewe inhoudsontleding behels dat ek die elektroniese opnames van die onderhoude self getranskribeer het as ’n onmiddellike betrokkenheid by die data en ’n eerste kennisname van moontlike reëlmatighede en opvallende patrone.

Ek het die onderhoude herhaaldelik gelees om alle elemente te identifiseer wat die navorsingsvraag kon beantwoord (Henning, Van Rensburg en Smit 2004:104). Daarna is die gedekodeerde data vertolk deur verbandhoudende elemente en patrone as afsonderlike temas saam te groepeer. Daarvolgens het die geanaliseerde data van die 18 individuele onderhoude reëlmatighede en herhalende patrone uitgewys. Hierdie reëlmatighede, wat met literatuurbevindings in verband gebring is, het ’n perspektief verteenwoordig van wat onderrig-en-leersukses binne ’n omgewing van veelvuldige ontneming behels.

Akademiese integriteit, eerlikheid en respek vir almal wat by die navorsing betrokke was is met etiese klaring gereël. Ingeligte toestemming is vooraf van onderwysowerhede en deelnemers verkry nadat almal volledig oor die navorsing en die rede vir hulle deelname ingelig is. Toestemming is van onderwysowerhede verkry om leerlinge as deelnemers te betrek. Die leerlingdeelnemers, almal in matriek, was 18 jaar oud of ouer. Alle deelnemers, insluitende leerlingdeelnemers, is sorgvuldig oor die navorsing en die waarde van hul deelname daaraan ingelig. Die instemming van leerlingdeelnemers en hul ouers se toestemming het gepaard gegaan met die versekering dat hulle enige tyd van deelname kon onttrek. Die individuele onderhoude met leerlinge is tydens pouses, wanneer dit die betrokke leerling gepas het, gevoer. Onderhoude is met die ander deelnemers gevoer wanneer dit hulle gepas het op voorwaarde dat die onderrigprogram nie daardeur geaffekteer sou word nie. Toestemming om ’n elektroniese opname van die onderhoud te maak, is vooraf van elke deelnemer verkry. Elke getranskribeerde onderhoud is aan die betrokke deelnemer voorgehou om die akkuraatheid van die data te bevestig. Deelnemers se anonimiteit en die vertroulikheid van hul bydraes is deurgaans verseker.

 

7. Navorsingsbevindings

Twee hooftemas het uit die data-ontleding na vore gekom. Hierdie twee temas hou verband met die belemmerende omgewingstoestande waaraan leerlinge in die townshipomgewing blootgestel is, en die wyses waarop onderrig-en-leeraksies vir matriekleerlinge gereël is. Vervolgens word hierdie twee temas bespreek. My bespreking van die temas word met woordelikse aanhalings uit die onderhoude toegelig. Ek dui die skoolhoof aan as S, die adjunkhoof as A, die twee departementshoofde as D1 en D2, die onderwysers as O1 tot O6, en die leerlinge as L1 tot L8.

7.1 Huis- en omgewingstoestande wat matriekleerlingsukses beïnvloed

’n Faktor in townshipomgewings wat leerlinge se selfdoeltreffendheidsverwagtinge verlaag, is die gebrek aan rolmodelle wat leerlinge motiveer om in hul skoolwerk te volhard. Die gebrek aan behoorlike polisiëring het tot gevolg dat bendelede in duur klere en blink motors die strate beheer (“Tsotsis and gangsters drive fancy cars; they wear expensive labels”, L2). Hierdie misdadigers skep die indruk by townshipleerlinge dat misdaad die enigste middel tot ’n beter en makliker lewe is. Vermoënde inwoners wat townshipomgewings verlaat wanneer hulle finansieel daartoe in staat is, veroorsaak dat kinders in townshipomgewings sonder identifikasiefigure grootword (“Learners in townships grow up without role models”, O5). Aangesien baie leerlinge die hele dag sonder kos bly, is dit ’n uitdaging om hulle van die waarde van skoolopleiding te oortuig en hulle te oorreed om in hulle skoolwerk te volhard (“Many learners spend the whole day on empty stomachs”, O4).

Die geraasvlakke waaraan townshipleerlinge tuis en in hulle onmiddellike omgewing blootgestel word, verhinder hulle om suksesvol te studeer. Baie gesinne van tien of meer woon in enkelkamerstrukture wat as kombuis, sitkamer en slaapkamer dien. Leerlinge ondervind probleme om tuis te studeer vanweë die geraas van familietwiste en ’n televisie wat deurgaans aan is (“I cannot study at home because of family quarrels and the television that is on non-stop”, L4). Die besit van ’n televisiestel ten spyte van volslae armoede word toegeskryf aan ’n leef-vir-die-oomblik-ingesteldheid en die pogings van weldoeners om die lewensgehalte van arm mense te verbeter (“Benefactors want to improve the quality of life of poor people”, O1). Daar is deurentyd ’n botsing van belange tussen leerlinge wat wil studeer en gesinslede wat televisie wil kyk. Gesinslede wat hul tyd met kompulsiewe televisiekyk verwyl, heg min waarde aan goeie skoolopleiding. Die gevolg is dat leerlinge nie op die ondersteuning van hul families kan staatmaak vir stilte in die huis sodat hulle op hul skoolwerk kan fokus nie (“Consideration for me studying is a fallacy”, L1).

Die geraas van fuifpartye wat gedurig in die townshipomgewing gehou word, is nie bevorderlik vir studie nie. Hierdie partytjies word gekenmerk aan harde, polsende musiek en ’n skril geskree wat gepaardgaan met drank, dwelms en seksuele misbruik (“The parties are characterised by loud beating music and shrill screaming”, D2; “The parties include liquor, drugs and sexual abuse”, O5). Dit spreek van ’n toksiese omgewing wat konstruktiewe studieroetines in so ’n mate kortwiek dat ’n leerling aangedui het dat hy wens hy kon iewers weg van die townshipomgewing studeer (“You wish that you could go somewhere, away from township, where you could study”, L3).

Die wens van hierdie leerling, wat dié van baie ander townshipleerlinge verwoord, het die bepaalde skool laat besluit om vir matriekleerlinge ’n studiegeleentheid weg van die township te reël. Dit strek oor ’n aansienlike tydperk waarin leerlinge kans kry om die vakinhoud deeglik te bemeester. Hulle ontvang holistiese maar kritiese onderrig in ’n ondersteunende omgewing. Daar word hoë verwagtinge aan hulle gestel. Die ekstra klasse op die skoolterrein gaan met emosionele steun en voedsame kos gepaard. Klasse vind elke Saterdagoggend in die eerste drie skoolkwartale, en elke oggend vir een week in die Aprilskoolvakansie en vir twee weke in die Julieskoolvakansie plaas. Hierdie studieomgewinginisiatief sluit twee weke voor die matriekeindeksamen met ’n studiekamp af.

7.2 Onderrig-en-leeraksies vir matriekleerlinge

Die onderrig-en-leeraksies ten bate van matriekleerlinge verteenwoordig twee inisiatiewe, naamlik die inisiatief van Saterdagoggend- en skoolvakansieoggendklasse en die inisiatief van ’n studiekamp net voor die eindeksamen begin.

7.2.1 Saterdagoggend- en skoolvakansieoggendklasse

’n Departementshoof en twee senior onderwysers is verantwoordelik vir die opstel van ’n rooster vir die Saterdagoggend- en skoolvakansieoggendklasse. Elke skoolvak se marktersaaklikheid en die moeilikheidsgraad van die inhoud word in ag geneem met die opstel van die rooster. Die fokus is op Wiskunde, Natuurwetenskappe, Rekeningkunde en Engels (“The challenging subjects are addressed: […] Mathematics, Physical sciences, Accounting, English”, D1). Vakonderwysers kontroleer die bywoning van klasse met ’n bywoningsregister. Die skoolbestuurspan volg gereelde afwesighede op deur afwesiges se versorgers te kontak.

Emosionele steun kom spontaan in die ekstra klasse voor deurdat die ontspanne maar gefokuste omgewing leerlinge van hul onderwysers se besorgdheid oor hul skolastiese en algemene welsyn verseker. Onderwysers se oogmerk is dat hul leerlinge die matriekeindeksamen oortuigend sal slaag en terselfdertyd kennis sal verwerf wat hulle konstruktief in die samelewing kan toepas (“I want to instil knowledge in them, for them to impart that knowledge further”, O1). Dit is vir die onderwysers ook belangrik om ’n oopkopbenadering by hul leerlinge te kweek en hulle te laat besef dat sukses wel moontlik is met toegewyde werk (“We have the desire for the African learner to be broader-minded”, D2; “We want to make them understand that success is possible through hard and consistent work”, O1).

’n Beduidende aantal uur (kwantitatief) van interaksie met die vakinhoud het tot gevolg dat ’n ondersteunende leeromgewing met gehaltebetrokkenheid (kwalitatief) geskep word. Dit stel leerlinge in staat om die moeilike vakinhoud te bemeester wat hulle motiveer om in hulle skoolwerk te volhard. Die betrokkenheid van besorgde onderwysers wat die hersiening van belangrike vakinhoud fasiliteer, motiveer leerlinge om selfdoeltreffend te wees en om ook hul persoonlike probleme te hanteer. Leerlinge met persoonlike probleme het dikwels nie die vrymoedigheid om by die skool met ’n onderwyser daaroor te praat of by die skoolhoof om hulp aan te klop nie. Die gemoedelike atmosfeer wat by die ekstra klasse heers, maak dit egter vir leerlinge moontlik om openlik met hul vakonderwysers oor hul probleme te praat (“Learners have problems and cannot open up in class or come to the office, but can talk to you openly at the extra classes”, O2).

Motiveringsprekers spreek leerlinge een keer per maand tydens ’n Saterdagoggendklas en een keer per week tydens die vakansieklasse toe. Hierdie sprekers is dikwels vertroud met die omgewing waarin die leerlinge woon omdat hulle self in soortgelyke omstandighede grootgeword het. Die sprekers vervul ’n rolmodelfunksie wat leerlinge se selfdoeltreffendheidsvlakke by wyse van ewekniebeïnvloeding verhoog. Hierdie motiveringspraatjies wek by leerlinge die hoop op ’n beter lewe deur ’n goeie skoolopleiding en volharding.

Erge armoede het tot gevolg dat baie leerlinge die ekstra klasse op ’n leë maag bywoon. Daarom is daar ontbyt om tienuur elke Saterdagoggend- en skoolvakansieoggendsessie. Privaat ondernemings borg die etes wat deur lede van die gemeenskap wat by spyseniering betrokke is voorberei word. KFC bederf leerlinge af en toe met hoenderstukke en aartappelskyfies (“On occasion, KFC will bring packs of Streetwise 2 with chips as an extra treat”, O4). Wat hierdie voedselskenkings betref, het die skoolhoof die belangrikheid van ’n behoorlik funksionerende skool as ’n oorredingsmaatreël beklemtoon. Besighede word tot borgskappe oorreed wanneer hulle potensiaal raaksien (“You cannot go to businesses and say: ‘Look, I want sponsorship’ and when they visit the school, they can’t see any product there”, S).

7.2.2 Die studiekamp

Vir die studiekamp twee weke voor die matriekeindeksamen word die skoolsaal in ’n koshuis omskep (“The school hall is turned into a hostel”, D2). Leerlinge bring hul eie beddegoed. Die privaat sektor borg alle maaltye. Die studiekamp is verpligtend vir alle matriekleerlinge en daar is geen koste aan bywoning verbonde nie.

Hersieningslesse word volgens ’n rooster aangebied. Die lesse begin om 08:00 en eindig om 17:30, waarna selfstudie van 19:00 tot 22:00 volg. Die skoolbestuurspan hou toesig oor onderrig en leer by die studiekamp om te verseker dat leerlinge suksesvol leer (“We monitor that learners find the direction that is needed”, D1). Die hersieningsrooster sluit alle matriekvakke in. Meer lesse word in die moeilike vakke soos Wiskunde en Natuurwetenskappe aangebied. Onderwysers ontvang betaling uit die skoolfonds vir elke les wat hulle gedurende die studiekamp aanbied.

Groepsonderrig vind tydens die studiekamp plaas deurdat onderwysers vakonderwerpe aan die hele leerlinggroep onderrig. Terselfdertyd word die kerninhoud by leerlinge ingeskerp deurdat verskeie vakonderwysers dieselfde onderwerp aan die hele leerlinggroep onderrig (“Learners are organised into subject groups, and each group is taught the same content by different educators”, D2). Hierdie onderrigstrategie word gevolg omdat leerlinge uit verskillende invalshoeke met die kernvakinhoud kennismaak en dit beter begryp (“This teaching strategy extends learners’ horizons of understanding”, S). Aangesien ewekniebeïnvloeding so doeltreffend is, word leerlinge wat die vakinhoud bemeester het, gevra om dit aan hul medeleerlinge te verduidelik (“We can help each other so that we all pass”, L7).

Individuele onderrig word saans tydens die selfstudiegeleentheid gegee wanneer onderwysers leerlinge individueel bystaan. Al hierdie onderrig-en-leeraksies help leerlinge in ’n townshipomgewing om die matriekeindeksamen oortuigend te slaag (“The study camp helps learners in township schools to connect what they learn in the classroom with what they learn and revise with camping, to perform well in the examination”, O2).

Leerlinge verstaan hulle eie verantwoordelikheid om te slaag. Een leerling het leerlinge se aanspreeklikheid vir kennisverwerwing met die plant en natgooi van ’n saadjie vergelyk. Onderwysers fasiliteer die vakinhoud en leerlinge maak die gefasiliteerde vakinhoud met toegewyde studie hul eie (“You have to work on your own […] teachers plant the seed, but you have to water it”, L3). Sommige leerlinge vind egter dat onderwysers te veel druk op hulle plaas en hulle met onrealistiese verwagtinge oorweldig (“It’s like this one teacher working towards obtaining a 100% pass for her subject, and the same thing happens with other teachers”, L6). Onderwysers is weer bekommerd oor die gebrek aan toegewydheid by baie leerlinge in die townshipomgewing (“There is a lack of seriousness in learners from townships”, O4).

Leerlinge se selfdoeltreffendheidsvlakke is laag omdat aansporing volgens die vier wyses waarop selfdoeltreffendheid gevorm word, erg gebrekkig is. Swak leerlingprestasie is egter ook te wyte aan regeringsmaatreëls wat leerlinge toelaat om hul matriekjaar oor twee jaar te versprei. Baie leerlinge wat van die tweejaaropsie gebruik maak, is in die eerste plek na ’n volgende skoolgraad bevorder, al het hulle gedruip. Die doel hiervan is om te voorkom dat leerlinge ’n graad verskeie kere herhaal en naderhand te oud vir ’n skoolgraad is (“These are the stipulations by government to avoid multiple repetitions and being over-aged in the grade”, D2).

’n Verlengde matriekjaar en talle leerlinge wat tot hul matriekjaar bevorder is sonder dat hulle die basiese leeruitkomstes in vorige grade behaal het, benadeel leerlinge se werkywer. Daarbenewens stel die bevorderingsvereiste van slegs 30% vir sommige finalejaarskoolvakke (tale ingesluit) lae standaarde en doeltreffendheidsverwagtinge. Dit lei tot ’n situasie waar baie leerlinge van townshipomgewings nie aan die basiese indiensnemingsvereistes voldoen nie (“Many township learners fail to meet basic employment requirements in the labour market”, O2). Ten spyte hiervan slaag die skool se onderrig-en-leerprogram wel daarin om toegewyde matriekleerlinge suksesvol vir die eindeksamen voor te berei (“The extra classes and study camp confirm success to do what you can with what you have where you are”, S).

 

8. Bespreking van bevindings

Veelvuldige ontneming – in die sin van erge armoede – verhoed dat leerlinge uit townshipomgewings leergeleenthede en leerprestasie met hul skoolopleiding ervaar. Die ekologiese, onderling samehangende funksionering van leerlinge se huislike omstandighede en hul eksterne omgewing (Bronfenbrenner 1979) lei daartoe dat ongunstige toestande vir leerlinge heers. Kognitiewe, emosionele, fisieke en sosiale probleme in townshipleerlinge se huislike omstandighede word vererger deur die eksterne omgewing waar misdaad en ’n onverskilligheid teenoor die belang van skoolopleiding heers. Om ’n positiewe verandering in leerlinge se lewensgeleenthede deur skoolopleiding gegrond op onderwyserinsette en leerlingontvanklikheid teweeg te bring, moet daar in die gemeenskapskultuur gunstige toestande heers wat studie bevorder (Barnes en Horsfall 2010). Die skep van ’n reddingsboei-studieomgewing weg van die township gegrond op hoë verwagtinge, kritiese onderrig en ondersteunende leer, bevat al die eienskappe van ’n gunstige gemeenskapskultuur om leerlinge se selfdoeltreffendheidsvlakke positief volgens die vier wyses van selfdoeltreffendheidsaanmoediging te beïnvloed (Bandura 1977; Hallinger 2011).

Die konsekwente en gestruktureerde fasilitering van vakinhoude gee aan leerlinge die geleentheid vir bemeestering. Dit word aangemoedig deur die opregte mondelinge oorreding van onderwysers. Die kognitiewe betrokkenheid by die vakinhoud word met fisiese en emosionele ondersteuning deur middel van voedsame maaltye en empatiese bystand met persoonlike probleme aangevul. Dit help om die verlammende uitwerking van die veeleisende situasies wat leerlinge tuis ervaar, teen te werk. Motiveringstoesprake deur persone met wie townshipleerlinge hulle kan identifiseer, verhoog hierdie leerlinge se verwagtinge oor selfdoeltreffendheid. Al hierdie maatreëls voorsien leerlinge uit omgewings van veelvuldige ontneming met die bes moontlike geleenthede om die matriekeindeksamen oortuigend te slaag.

Die keuse van ’n verlengde matriekjaar en ’n slaagpunt van slegs 30% vir sommige vakke maak inbreuk op die toegewyde verwerwing van kennis en vaardighede wat noodsaaklik is vir moontlike sosiale mobiliteit. Die rede hiervoor is dat ’n slaagpunt van 30% ’n wanvoorstelling van sukses is en die onvoldoende bemeestering van kennis en minderwaardige bekwaamheid versinnebeeld. Daarteenoor funksioneer die studieomgewing weg van die township vir toegewyde townshipleerlinge as ’n reddingsboei-geleentheid met die oog op sosiale mobiliteit. Hierdie mobiliteit hou verband met die slaag van matriek op grond van die verwerwing van kennis en vaardighede op ’n oortuigende manier wat die kanse op indiensneming verbeter. Met verwysing na die vier wyses van selfdoeltreffendheidsontwikkeling (Bandura 1977), stel die onderrig-en-leeraksies van die studieomgewing ontvanklike leerlinge bloot aan werksverrigtingprestasie. Dit word aangespoor deur eweknievoorbeelde en mondelinge oorreding wat leerlinge in staat stel om die emosionele appèl van huislike omstandighede beter te verwerk.

Op grond van leerlingontwikkeling as die interaktiewe funksionering van ekologiese sisteme en selfdoeltreffendheid (Bandura 1977; Bronfenbrenner 1979) behaal leerlinge leersukses ten spyte van veelvuldige ontneming. Hierdie leersukses is te danke aan onderrig-en-leeraksies in ’n reddingsboei-studieomgewing waar ontneemde leerlinge aan hoë verwagtinge voldoen danksy kritiese onderrig en ondersteunende leer (Hallinger 2011).

 

9. Afsluiting

Die hoofdoel van die onderrig-en-leeraksies in die bepaalde reddingsboei-studieomgewing is om randfiguurleerlinge met die nodige kennis en vaardighede toe te rus om ’n matriekkwalifikasie oortuigend te verwerf. Vir baie van hierdie leerlinge is matriek ’n uiteindelike prestasie en ’n potensieel positiewe faktor wat as rigtinggewer kan dien om die armoedesiklus te verbreek. Verdere navorsing is nodig om te bepaal hoe hoë verwagtinge vir die toegewyde verwerwing van voldoende kennis en vaardighede aan leerlinge oorgedra word ten spyte van die maatreël van ’n verlengde matriekjaar en ’n ondergemiddelde slaagpunt. Antwoorde moet ook gevind word oor die mate van diepgaande leer wat ontneemde leerlinge voorberei vir verdere studie ten einde as eerstegenerasiestudente hoër onderwyskwalifikasies te verwerf.

Met inagneming van die potensiaal van onderwyserinsette en leerlingontvanklikheid, en van die Gini-koëffisiënt1 van Suid-Afrika, is antwoorde laastens nodig oor die mate waartoe diepgaande leer met behulp van die onderrig-en-leeraksies daartoe bydra om ontneemde leerlinge vir verdere studie in uitdagende kursusse voor te berei. Uitdagende kursusse veronderstel kursusse wat opleiding in skaars vaardighede verteenwoordig, met gepaardgaande hoëstatus-indiensnemingsmoontlikhede. Sukses met diepgaande leer van hierdie omvang kan die uitsluiting van leerlinge uit omgewings van veelvuldige ontneming beëindig. Leersukses is dan wel moontlik ondanks gebrekkige ouerskap en ’n gemeenskapsomgewing wat nie bevorderlik vir suksesvolle leer is nie.

 

Bibliografie

Bandura, A. 1977. Self-efficacy: Toward a unifying theory of behavioural change. Psychological Review, 84(2):191–215.

—. 1997. Self-efficacy: The exercise of control. New York: Freeman.

Barnes, H., M. Noble, G. Wright en A. Dawes. 2009. A geographical profile of child deprivation in South Africa. Child Indicators Research, 2(2):181–99.

Barnes, J. en P. Horsfall. 2010. It’s your life: Developing a community of learners to combat social deprivation. Education Review, 22(2):17–26.

Bick, J. en C. Nelson. 2017. Early experience and brain development. WIREs Cognitive Science, 8:1387. doi: 10.1002/wcs.1387.

Bisschoff, T. en P. Watts. 2013. Leadership for learning: A case of leadership development through challenging situations. Education as Change, 17(S1):21–31.

Bloch, G. 2009. The toxic mix: What’s wrong with South Africa’s schools and how to fix it. Kaapstad: Tafelberg.

Bronfenbrenner, U. 1979. The ecology of human development: Experiments by nature and design. Cambridge, MA: Harvard University Press.

Burnett, C. 2010. Sport-for-development approaches in the South African context: A case study analysis. South African Journal for Research in Sport, Physical Education and Recreation, 32(1):29–42.

Bush, T. 2013. Instructional leadership and leadership for learning: Global and South African perspectives. Education as Change, 17(S1):5–20.

Cohen, L., L. Manion en K. Morrison. 2011. Research methods in education. 7de uitgawe. Londen: Routledge Falmer.

Conrad, C.F. en R.C. Serlin (reds.). 2011. The SAGE handbook for research in education. 2de uitgawe. Thousand Oaks, CA: SAGE.

Evans, R. en A. Cleghorn. 2014. Parental perceptions: A case study of school choice amidst language waves. South African Journal of Education, 34(2):1–19.

Hallinger, P. 2011. Leadership for learning: Lessons from 40 years of empirical research. Journal of Educational Administration, 49(2):125–42.

Henning, E., W. van Rensburg en B. Smit. 2004. Finding your way in qualitative research. Pretoria: Van Schaik.

Hick, R. 2016. Material poverty and multiple deprivation in Britain: The distinctiveness of multidimensional assessment. Journal of Public Policy, 36(2):277–308.

Jensen, E. 2009. Teaching with poverty in mind: What being poor does to kids’ brains and what schools can do about it. Alexandria, VA: ASCD.

Jones, S. en Y. Schipper. 2015. Does family background matter for learning in East Africa? Africa Education Review, 12(1):7–27.

Kamper, G. 2008. A profile of effective leadership in some South African high-poverty schools. South African Journal of Education, 28(1):1–18.

Lumby, J. 2015. Leading schools in communities of multiple deprivation: Women principals in South Africa. Educational Management Administration & Leadership, 43(3):400–17.

Maringe, F. en R. Moletsane. 2015. Leading schools in circumstances of multiple deprivation in South Africa: Mapping some conceptual, contextual and research dimensions. Educational Management Administration & Leadership, 43(3):347–62.

Msila, V. 2005. The education exodus: The flight from township schools. Africa Education Review, 2(2):173–88.

—. 2017. Leaving a sinking ship? School principals in flight, lessons and possible solutions. Africa Education Review, 14(1):87–104.

Noble, M.W.J., G.C. Wright, W.K. Magasela en A. Ratcliffe. 2007. Developing a democratic definition of poverty in South Africa. Journal of Poverty, 11(4):117–41.

Schwarzer, R. en S. Hallum. 2008. Perceived teacher self-efficacy as a predictor of job stress and burnout: Mediation analyses. Applied Psychology: An International Review, 57(s1):152–71.

Smit, B. 2014. An ethnographic narrative of relational leadership. Journal of Sociology and Social Anthropology, 5(2):117–23.

Smith, M.C. 2011. Which in- and out-of-school factors explain variations in learning across different socio-economic groups? Findings from South Africa. Comparative Education, 47(1):79–102.

Spaull, N. 2012. Education in SA: A tale of two systems. Politicsweb, News & Analysis. https://www.politicsweb.co.za/news-and-analysis/education-in-sa-a-tale-of-two-systems (5 Februarie 2020 geraadpleeg).

—. 2015. Schooling in South Africa: How low quality education becomes a poverty trap. South African Child Gauge, Part 2 – Youth and the intergenerational transmission of poverty. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch. http://www.ci.uct.ac.za/sites/default/files/image_tool/images/367/Child_Gauge/South_African_Child_Gauge_2015/Child_Gauge_2015-Schooling.pdf (8 Februarie 2020 geraadpleeg).

Spillane, J.P. 2006. Distributed leadership. San Francisco: Jossey-Bass.

Swift, A. 2003. How not to be a hypocrite: School choice for the morally perplexed parent. Londen: Routledge.

Toma, J.D. 2011. Approaching rigour in applied qualitative research. In Conrad en Serlin (reds.) 2011.

Whelan, C.T., R. Layte en B. Maître. 2002. Multiple deprivation and persistent poverty in the European Union. Journal of European Social Policy, 12(2):91–105.

Wills, G. en H. Hofmeyr. 2018. Academic resilience in challenging contexts: Evidence from township and rural primary schools in South Africa. Stellenbosch economic working papers: WP18/2018. Ekonomie Departement, Universiteit Stellenbosch.

 

Eindnota

1 Die Gini-koëffisiënt is in 1912 deur Corrado Gini ontwikkel om die mate van ongelykheid in ’n samelewing wat betref materiële rykdom statisties met ’n getal van 0 (volslae gelykheid) tot 100 (volslae ongelykheid) te bepaal. Van al die samelewings wat wel oor sodanige statistiek beskik, is Suid-Afrika se telling van 63 een van die hoogste Gini-koëffisiënte ter wêreld.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post ’n Reddingsboei-omgewing vir suksesvolle leer by matriekleerlinge in toestande van veelvuldige ontneming appeared first on LitNet.

Persoonsnaamgewing onder die Xhosasprekendes van Suid-Afrika

$
0
0

Persoonsnaamgewing onder die Xhosasprekendes van Suid-Afrika

Bertie Neethling, Departement Xhosa, Universiteit van Wes-Kaapland

LitNet Akademies Jaargang 17(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

In ’n veeltalige en multikulturele land soos Suid-Afrika speel name, veral onder die swart Suid-Afrikaners, ’n baie belangrike rol. Onomastiek is die dissipline wat hom bemoei met name en naamsisteme. Die woord onomastiek is afgelei van die Griekse onoma wat die begrip naam verteenwoordig. Die totale bevolking van Suid-Afrika staan tans op ongeveer 58 miljoen, en Xhosasprekers is die tweede grootste bevolkingsgroep in die land (7 tot 8 miljoen). 

Die doel met hierdie bydrae is om die rol van naamgewing onder die amaXhosa (soos hulle ook bekend staan) te ontleed. Omdat voorname, en soms ook agtername of vanne, meestal uit die Xhosaleksikon afkomstig is, is dit dikwels semanties deursigtig. Juis daarom word naamgewing as ’n uiters belangrike kultuuraspek beskou. Naamgewers is dus geneig om name met ’n positiewe betekenis te kies. Soos wat die naamdraers grootword, word hulle bewus van die positiewe eienskappe wat hulle name verteenwoordig, en streef daarna om dit uit te leef. Die name speel dikwels ’n belangrike rol ten opsigte van identiteit, en dit sal ook aandag geniet. Verskillende kategorieë word uit die databasis geabstraheer om die verskillende tipes name te illustreer.

Trefwoorde: identiteit; IKS; naamgewers en naamdraers; naamkategorieë; onomastiek; Xhosasprekers

 

Abstract

Personal-name-giving among the Xhosa speakers of South Africa

In a multilingual and multicultural country like South Africa names, particularly among black South Africans, personal names play a very important role. The discipline concerned with names and systems of names is called onomastics. The term is derived from the Greek word onoma that means “name”. There are various categories in the onomastics field of study, with anthroponymy (personal names) and toponymy (place names) being the most important. The total population of South Africa is around 58 million, with Xhosa speakers numbering between seven and eight million, making it the second biggest ethnic group. 

The purpose with this contribution is to analyse the role of name-giving and the names themselves among the amaXhosa, as they are also known. Because personal names and occasionally also last or surnames are derived from the Xhosa lexicon, the names are often semantically transparent. Because of this transparency name-giving is considered as an extremely important cultural aspect. Name-givers therefore tend to choose names that have a positive meaning. As the name carriers grow up, they become aware of the positive qualities their names represent, and strive towards fulfilling those qualities. In this context the names are often intimately and strongly linked to the concept of identity, and this will also be investigated.

The database represents various categories that will be abstracted to serve as illustrations to be discussed. In many cases name-givers, given the specific circumstances around the birth of a child, can be extremely creative. Some of the names were collected in a project at the University of the Western Cape by way of a questionnaire. Besides the university campus questionnaire, many other printed sources in the Western Cape, like books, dissertations, articles and newspapers were also consulted, as well as printed sources from the Eastern Cape, which forms a strong base of the Xhosa community.

The basic approach in this contribution is socio-onomastic, in other words, the analysis and interpretation of names as they appear in the Xhosa community. The rise of Indigenous Knowledge Systems (IKSs) has become popular over the last 25 years, and it is clear that Xhosa onomastics, notably the anthroponymy feature, is an important part of the IKS. A common viewpoint nowadays is that IKS exists in a post-millennium modernising Africa. Name-giving traditions among the amaXhosa can be considered as a part of IKS, notably because of the strong link between the personal name and identity. That sets the amaXhosa apart from other non-black ethnic groups. It is likely that IKS would apply to all ethnic groups where semantic transparency exists in personal names and hence remains a strong cultural feature.

Keywords: identity; IKS; name categories; name-givers and name carriers; name-giving; onomastics; Xhosa speakers

 

1. Inleiding

Onomastiek, die studie van name en naamsisteme, is steeds ’n betreklik nuwe studieveld in Suider-Afrika. Die term onomastiek is afgelei van die Griekse woord onoma, wat “naam” beteken. Die dissipline is goed gevestig in Europa en die Nordiese lande, asook in Brittanje en die VSA sedert die laat 19de eeu. Dit het egter eers in die tweede helfte van die 20ste eeu in Suider-Afrika begin posvat. Suider-Afrika is deel van UNGEGN (Engelse afkorting vir Verenigde Nasies se Groep Spesialiste op Geografiese Name). Veral onder die Afrikatale in Suid-Afrika was studies op die gebied van naamkunde uiters skaars.

In die vroeë 1980’s was daar ’n bestendige groei in naamkundige studies, met naamkundekongresse waar voordragte gelewer is, en artikels wat gereeld gepubliseer is in die tydskrif Nomina Africana. By die totstandkoming van die tydskrif (1988) het dit aanvanklik tweetalig verskyn: In Engels was die subtitel Journal of the Names Society of Southern Africa, en in Afrikaans Tydskrif van die Naamkundevereniging van Suider-Afrika. Op die voorblad van die tydskrif bo links het die akroniem NSA ook verskyn. Uiteindelik het die tydskrif in 2013 eentalig (Engels) geword weens die toetrede van veral swart naamkundiges wat nie Afrikaans kon besig nie. Die akroniem is ook effens gewysig na NSSA, omdat “Southern” nou ook geïnkorporeer is om ander lede van die Afrika-Suid-afdeling, naamlik die buurlande soos Mosambiek, Zimbabwe, Malawi, Namibië, Botswana en Lesotho in te sluit. 

Tans verskyn daar twee volumes per jaar, en die titel en voorkoms het effens verander. Nomina Africana is behou, maar ’n subtitel is ingevoeg, naamlik The Journal of African Onomastics. Die tydskrif het ’n vennoot gevind wat nou die drukwerk doen, naamlik NISC, en het nou ’n nuwe kleurvoorblad met Afrika as agtergrond. NISC is die akroniem vir die geregistreerde naam National Inquiry Services Centre.

Figuur 1. Nomina Africana 1988, 2(1) en Nomina Africana: The Journal of African Onomastics 2019, 33(1)

 

2. Naamgewing

Die mensdom, oftewel Homo sapiens, gaan deur die lewe deur verskillende entiteite deurgaans te benoem by wyse van naamgewing. Om iets te benoem is ’n onontbeerlike aktiwiteit om ons lewe te organiseer. As alle mense, plekke en goedere, om maar ’n paar te noem, nie name dra nie, sou dit onmoontlik wees om ’n sinvolle lewe in die hedendaagse wêreld te lei. Bill Nicolaisen, ’n prominente naamnavorser in die laaste helfte van die vorige eeu, het die mensdom benoem as Homo nominans, “Man the namer” (die mensdom as naamgewer) in een van sy vroeë skrywes (1978:40). Die studieveld van die onomastiek is wel besig om te groei. Daar bestaan verskeie tydskrifte wat daarop toegespits is, en waarskynlik die vernaamste naamkundekongres in die wêreld is ICOS (International Congress of Onomastic Sciences) wat elke drie jaar op verskillende plekke gehou word.

In hierdie bydrae is die fokus op die persoonsnaamgewing onder die Xhosasprekendes in Suid-Afrika. Die amaXhosa, soos hulle ook bekendstaan, is die tweede grootste etniese groepering, met byna agt miljoen sprekers, en is oor die hele Suid-Afrika versprei, met die grootste konsentrasie in die Oos-Kaap en die Wes-Kaap. Die taal wat hulle praat, is Xhosa, wat tot sowel die Bantoetaalfamilie as tot die kleiner Nguni-groepering (wat ook Zoeloe insluit) behoort. In die afgelope paar jaar is daar taalkundiges, asook ander persone wat daarop aandring dat Xhosa met sy naamklasprefiks isi- geskryf en uitgespreek moet word, dit wil sê isiXhosa. Of dit werklik nodig is, is te betwyfel. Die verwysing na die vol vorm isiXhosa is noodsaaklik slegs wanneer dit in konteks gebruik word, byvoorbeeld Ndithetha isiXhosa ngoku (“Ek praat nou Xhosa”). As daar bloot na die taal verwys word (in Afrikaans en ook in Engels) kan dit bloot Xhosa bly, soos in “Hy verkies om Xhosa te praat” of “He prefers to speak Xhosa”. Xhosa is ’n agglutinerende taal, met ander woorde bepaalde klein betekenisdraende elemente kan nie op hulle eie funksioneer nie en moet by veral werkwoorde in die struktuur geïnkorporeer word. Dit gebeur ook dikwels by bepaalde langerige name. Waar nodig, sal hierdie merkers en hulle betekenis verduidelik word.

Die basiese benadering in hierdie bydrae kan as sosio-onomasties beskou word, met ander woorde die ontleding en interpretasie van name soos hulle in die Xhosagemeenskap voorkom en funksioneer.

 

3. Xhosanaamgewing

Net soos by alle ander kultuurgroepe, word die pasgeborenes onder die amaXhosa deur ’n naam verwelkom. Die primêre funksie is om die pasgeborene van al die vorige naamontvangers te onderskei, met ander woorde die naamgewing het ’n referensiële of verwysingsfunksie. In ’n Euro-Westerse konteks funksioneer name hoofsaaklik op hierdie vlak. In die Xhosagemeenskap (asook ander Afrika-gemeenskappe) is die keuse van ’n naam ’n baie belangrike een. Volgens Thipa (1987:108) word die kind veral in tradisionele huise in die Xhosa- en Sothogemeenskappe beskou as nie net behorende tot die direkte biologiese familie nie, maar ook tot die uitgebreide familie en uiteindelik die breër gemeenskap. Dit blyk dat naamgewing in ’n Afrikagemeenskap ’n ander dimensie aanneem as in ’n Euro-Westerse konteks. Die ubuntu-begrip met die betekenis van “goedhartigheid, medemenslikheid, mededeelsaamheid” word dikwels beklemtoon: Die individu is nooit belangriker as die gemeenskap nie. Die Xhosa-uitdrukking Umntu ngumntu ngabantu (’n individu is ’n individu deur ander mense) beklemtoon hierdie aspek. Bangeni en Coetser (2000:60) beskou Xhosanaamgewing as ’n spieëlbeeld van die strukture in die gemeenskap. 

Die effens afgesaagde en holruggeryde twee reëls uit Shakespeare se Romeo and Juliet (1967:86) word veral deur joernaliste gebruik wat suggereer dat daar dikwels gereeld meer in ’n naam vervat is as wat mense dink:

What’s in a name? that which we call a rose,
By any other name would smell as sweet.

Vanuit ’n onomastiese gesigspunt word Juliet se alleenspraak gewoonlik nie verder ontwikkel nie. Juliet se siening oor die naam wat iemand dra, is min of meer verteenwoordigend van die Euro-Westerse standpunt. Juliet smeek Romeo soos volg aan: “Romeo, doff thy name ... which is no part of thee.” 

Doff is ’n Oudengelse woord met die betekenis van “afhaal, uittrek”. Juliet wil hê dat Romeo sy naam moet prysgee, aflê of uittrek, soos ’n kledingstuk, want dit is nie deel van hom nie. Die meeste Xhosasprekers sou nie met haar saamstem nie. Vir hulle is die naam ’n intrinsieke deel van hulle bestaan. Zabeeh (1968:5) haal Goethe aan: “A man’s name is not like a cloak that merely hangs around him [...] It grows over him like his very skin. One cannot scrape and scratch at it without injuring the man himself.”

Omdat baie Xhosaname dikwels vanuit die leksikon afgelei kan word en dus betekenisvol is, gebruik die naamgewers die leksikon as die vernaamste bron, en dit dien as die motivering vir die naamkeuse. Herbert (1997:6) tref ’n onderskeid tussen die leksikale betekenis en die onderliggende betekenis of motivering van die keuse. Die leksikale betekenis is meestal ooglopend en duidelik, maar wat die naam presies beteken, is dikwels ondeursigtig en verdien verduideliking.

Oor die afgelope ongeveer 25 jaar het die studie van die inheemse kennissisteme, oftewel IKS, van Indigenous Knowledge Systems, gewild geraak. Om dit volledig te definieer is problematies, want dit is ’n omvattende begrip. Dit word gekoppel aan enige vorm van tradisionele kultuur, wat allerlei praktyke, gewoontes, informele kennis, en wêreldbeskouings insluit. Dit word selfs ingesluit by sang, dans, folklore, ontwerp, teater en die visuele kunste. ’n Algemene gesigspunt in die moderne tyd is dat IKS tans bestaan in ’n postmillennium moderniserende Afrika, en dat universiteite gebruik moet word om Afrika-identiteit te herwin en om die IKS te bewaar. Omdat identiteit soos veral in persoonlike voorname ’n belangrike rol speel, word Xhosa-onomastiek as ’n belangrike komponent van IKS beskou (sien Neethling 2014).

 

4. Naam en identiteit 

Sommige van die Xhosaname en verskeie aannames en gevolgtrekkings kom uit vorige studies (sien De Klerk 2002; De Klerk en Bosch 1995, 1996; Neethling, B. 2005, 2012; Neethling, S.J. 1983, 1988 en 2000). Een van die belangrikste navorsingstudies het die titel gedra van “Exploring the link between name and identity: A UWC profile”. Die projek het in 2007 begin en is nog tot ’n mate aan die gang deurdat nuwe name op die toneel verskyn en dikwels nuwe perspektiewe na vore bring. Vir die doel van hierdie bydrae is die fokus uiteraard net op Xhosaname. Baie van die data is ingesamel by wyse van ’n vraelys wat op die kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) versprei is. ’n Aantal assistente is aangestel om te help dat medestudente die vraelys voltooi. Die aanvanklike projek het al die tale op die kampus geakkommodeer, en nie net Xhosa nie. ’n Moontlike vraag oor die sosiale omgewing of herkoms van die respondente het nie gefigureer nie, omdat dit destyds nie as belangrik beskou is nie. Al die respondente was gewoon studente op ’n kampus.

Een vraag in die vraelys vra aan deelnemers of hulle hul name sien as ’n uitbeelding van hulle identiteit. Die uitkomste was waarskynlik voorspelbaar: Alhoewel die meeste Xhosastudente nog nooit vantevore deur so ’n vraag gekonfronteer was nie, het die meeste deelnemers hulle name geïdentifiseer as ’n sterk identiteitsaanduider. Wêreldwyd word ’n naam gesien as een van die mees stabiele elemente van enige persoon se identiteit. Tog is identiteit ’n ontwykende begrip en nie ’n vaste konstruksie nie: Dit is altyd aan die verander of pas aan, en baie individue ontwikkel ’n verskeidenheid van identiteite oor hulle lewensduur heen (sien Wassermann en Jacobs 2003:15–28). Hulle beskou identiteit as ’n “reis” en nie ’n “bestemming” nie.

Baie individue funksioneer in meer as een en dikwels verskillende kontekste, wat aanpassings aan hulle identiteite verg om optimaal in ’n bepaalde konteks te funksioneer. Soos die omstandighede, strategieë en interaksies wissel, kan die identiteit ook verander. Baie navorsers beskou identiteit as ’n proses en nie ’n eienskap nie. Indien ’n mens dit as sodanig beskou, bly dit altyd veranderlik, en nooit voltooid of gefinaliseer nie. Identiteit word dus dikwels bepaal deur wat ons doen, en nie deur wie ons “is” nie (sien Puttergill en Leildé 2006). In ’n meertalige en multikulturele konteks soos in Suid-Afrika, en wanneer dit tot die kampus van UWK beperk word, kan ’n verskeidenheid identiteite wat aan een persoon toegedig word, te voorskyn kom. Dit word onder andere ook bevestig deur die groot aantal addisionele byname wat slegs in bepaalde kontekste en deur bepaalde individue gebruik word. Die kategorie van byname word nie in hierdie bydrae gedek nie.

Ten spyte hiervan sal ’n individu nie maklik afstand doen van sy amptelike persoonlike naam nie, en bly dit stabiel. Sou ’n individu iets onwettigs pleeg, word ’n skuilnaam dikwels aangeneem om die ware identiteit te verbloem.

’n Briefskrywer (W. van der Merwe) aan die briewekolom van Die Burger (6 Mei 2005) het die volgende te sê gehad:

Die filosowe stem saam dat jy nie jou identiteit kan verkoop of ruil nie. Dit is soos jou eie naam wat jy nie self kon kies nie, maar wat jy in die hof sal verdedig sou iemand dit minag. Jy kan later ander identiteite aanneem, maar jy kan nie jou eerste oorspronklike identiteit negeer nie. Sou jy dit doen, draai jy jou rug op ’n persoonlike geskiedenis. Jy word ’n banneling in jouself.

Die hoofdoelwit met hierdie bydrae is dus om vas te stel of hierdie “persoonlike geskiedenis” deur die tradisionele naamgewing van Xhosasprekers oor ’n relatief lang tydsduur as ’n vorm van IKS beskou kan word. Die basiese voornaam van die Xhosaspreker sal as vertrekpunt gebruik word.

 

5. Naamkategorieë

Publikasies wat die naamkategorieë onder Xhosasprekers asook in ander Afrikatale in Suid-Afrika verken het, is relatief skaars. In twee vroeëre artikels deur Thipa (1986, 1987) ten opsigte van Xhosa identifiseer hy ’n aantal kategorieë. Na hom het Gysman (1992) en Ntwana (1994) ongepubliseerde honneursstudies oor persoonlike Xhosaname voltooi, en toe het die publikasie van Mthembu-Salter (2001) gevolg met die titel Call me by my name. Sy hanteer die kwessie van motivering vir naamkeuses deur haar naamdata in temas te organiseer en dit dan basies alfabeties aan te bied. Haar ontleding is egter gebrekkig en die kulturele betekenis geniet geen aandag nie. Sy het ook probeer om al vier taalgroepe binne die Ngunigroepering (Xhosa, Zoeloe, Swazi en Ndebele) te akkommodeer. Sommige van haar kategorieë het uiteraard met dié van Thipa, Gysman en Ntwana ooreengestem.

Thipa en Mthembu-Salter se inhoud is, hoewel goed bedoel, nie goed hanteer nie. Daar is dikwels oorvleueling van name in verskeie kategorieë sonder dat enige kommentaar volg. Gysman en Ntwana se werk is wel beperk, maar deeglik gefundeer. Waar toepaslik sal voorbeelde uit hulle naamdata gebruik word. Daar is uiteraard geweldig baie name in enige korpus van naamdata, en die keuse en beskrywing van die name wat aandag verdien, moet noukeurig uitgevoer word.

Dit is ongelukkig so dat daar nie meer publikasies van moedertaalsprekers verskyn het nie. Dit sou waarskynlik insiggewend kon gewees het ten opsigte van hierdie bydrae. By ’n hele aantal onlangse kongresse van die NSSA, wat elke twee jaar plaasvind, was dit opvallend dat geen Xhosaspreker dit bywoon of as spreker optree nie. Skynbaar is onomastiek nie ’n gewilde studieveld nie. Dit mag ook wees dat betekenisvolle name as vanselfsprekend beskou word en geen verduideliking benodig nie.

’n Meer uitgebreide en noukeurige ontleding volg nou met die klem op Xhosavoorname. Soms is die betekenis van die name direk, duidelik en positief, en soms is dit subtiel en effens versluier. Die naamgewers, meestal die ouers, verwag dan dat hulle kinders eendag hierdie goeie en mooi eienskappe vervat in hulle name sal uitbeeld. Indien dit gebeur, dan is die bekende uitdrukking soos volg: Ulilandele igama lakhe (Hy/sy volg sy/haar naam).

Die mees algemene en gewilde name onder die Xhosasprekers, dié wat duidelike betekenis dra, volg aanvanklik. Baie algemene elemente uit die leksikon, soos naamwoorde, werkwoorde en deskriptiewe, en ook ander minder bekende en kleiner linguistiese strukture soos onderwerpmerkers (algemeen en persoonlik), tydvorme en besitlike vorme kom in die samestelling van die name voor. Hierdie strukture uit die leksikon sal soms in die naamvoorbeelde geïnkorporeer word en “opgebreek” word ten einde die betekenis duidelik uit te beeld. Alle naamvoorbeelde in al die kategorieë word lukraak aangebied, behalwe natuurlik daardie name wat binne ’n bepaalde kategorie bymekaar hoort.

5.1 Aspirasies/Verwagtinge 

Baie ouers gee aan hulle kinders by geboorte bepaalde name met positiewe verwagtinge wat hulle by hulle kinders wil inskerp soos hulle groter word. Die meeste name het bepaalde morfologiese kenmerke wat die geslag suggereer. Waar nodig, sal daarna verwys word. Hier volg nou verskillende name wat basies hierdie verwagtinge uitspreek: 

Khanyisa: “skep lig in die toekoms”
Ntomboxolo: “dogter/meisie van vrede” (uxolo = vrede)
Fezidinga: “vervul die belofte”
Mthobeli: “die gehoorsame een”
Themba/Thenjiswa/Nomathemba: (-themba = hoop)
Thembisile: “wat belofte toon” (-thembisa = belofte toon, selfvertroue vertoon)
Thembeka: “die betroubare een”. 

Talle van die laaste afleidings soos hier bo aangedui, kom van die basiese werkwoord -themba (“hoop”).

Ander voorbeelde:

Thozama/Thozamile: < -thozama “om sagmoedig/beskeie te wees”
Qukeza: “die flukse een”
Monde/Nomonde: “die geduldige een”
Mncedisi: “helper”
Mlungisi: “die hersteller” < ww. -lungisa “regmaak”
Mthobeli: “die gehoorsame een”
Nomathamsanqa: “die gelukkige een” < ithamsanqa = goeie geluk
Nompumelo/Phumelele: “die suksesvolle een” < impumelelo = sukses
Ndileka: “waardig/ deftig wees”
Lulama: “sagmoedig wees”
Ntombokhanyo:< intombi “dogter/meisie” + ukhanyo “lig” = dogter/meisie van lig
Thanduxolo: “liefhebber van vrede”
Thandeka: “is/wees liefdevol”. 

Dit is redelik maklik om die positiewe persoonlikheidseienskappe ingebed in die name te sien. Die voorvoegsel No- dui bloot aan dat dit ’n vroulike naam is. In baie gevalle word saamgestelde name gebruik wat dikwels aan eersgeborenes gegee word, en veral aan seuns. Die ouers plaas ’n verantwoordelikheid op die kinders deur die naam. Dit kan positief geïnterpreteer word, maar kan ook uiteindelik in ’n swaar las ontwikkel. Dit kan dus as ’n voorreg óf ’n lotsbestemming beskou word. Hier volg ’n paar voorbeelde:

Khayalethu: < ikhaya “tuiste/huis” + lethu “van ons” = ons tuiste/huis. Die ouers beklemtoon die feit dat die seun aan hulle familie behoort, en saam daarmee kom verantwoordelikhede.
Jongikhaya: < -jonga “kyk na” + ikhaya “tuiste” = kyk na (ons) huis. Die ouers plaas druk op hulle seun om na die huis en ook by implikasie na hulle om te sien.
Solomzi: < iliso “oog” + lomzi “van die huis” = oog van die huis. Die seun moet ’n oog hou oor die omstandighede van die huis; hy is die verantwoordelike een.
Gcinikhaya: < -gcina “bewaar/kyk na” + ikhaya “die huis” = kyk (mooi) na die huis. Die boodskap is duidelik.

Soms word ’n tweeling gebore. Toepaslike name vir so ’n tweeling is Qukeza en Khuthala. Al twee beteken “fluks” en/of “vlytig”. Identiteit hier is ook identies. Die ouers koester dus hierdie positiewe eienskap vir die tweeling.

Soos in alle gemeenskappe gebeur, is daar ook soms rare vierlinge. Een bepaalde geval is dié van ’n moeder wat aan ’n vierling by wyse van ’n keisersnit geboorte geskenk het: twee seuns en twee dogters (Die Burger, 6 Julie 2017). Die name is interessant: Al vier begin met die verkorte klasvoorvoegsel (u)bu (= klas 14) wat normaalweg vir abstrakte begrippe gebruik word. Voorbeelde hiervan is die adjektiewe -dala (“oud/oud wees”) wat dan in klas 14 ubudala (“ouderdom”) word, of -hle (“mooi, mooi wees”) wat ubuhle (“skoonheid”) word. Die doel is waarskynlik om die goeie eienskappe wat uit die name afgelei kan word, aan te moedig. Die name vir die meisies is Bunono “respekvol(heid)” en Bungcwele: “rein/kuis(heid)”. Vir die seuns is dit Bubele: “goedhartig(heid)” en Buchule: “ervare(nheid)”.

Statistieke Suid-Afrika (2018) dui aan dat die gewildste naam vir seuns wat in 2017 in die Oos-Kaap gebore is, Enzokuhle is. Die beste vrye vertaling vir die naam is “om goed te doen”. ’n Ander unieke meisienaam het onlangs in 2019 in die nasionale dagblaaie verskyn. Die naam is Uyinene, die naam van die student wat in Augustus 2019 in Kaapstad verkrag en vermoor is. Die naam het nie ’n ooglopende betekenis nie. Dis ’n besonderse naam wat letterlik beteken “sy is die ware een”, die een wat al die mooi en goeie dinge wat haar ouers vir haar gekoester het, verteenwoordig. So speel ironie ook ’n rol by die assosiatiewe betekenis van persoonsname.

Hierdie kategorie is baie gewild onder talle ouers by die geboorte van ’n kind. Die verwagtinge en aspirasies vir die kind word dikwels mooi in die name versinnebeeld. Min Euro-Westerse name bevat sodanige verwagtinge.

5.2 Dankbaarheid teenoor God/voorvaders

Dit is waarskynlik korrek om aan te neem dat die meeste Xhosasprekers in die een of ander bonatuurlike krag glo wat dikteer, lei, straf, beloon, bevorder ens. – wat met ander woorde invloed op die mense en hulle alledaagse lewe uitoefen. ’n Groot persentasie van die Xhosasprekers is tot die Christendom bekeer na die sendelinge hierdie godsdiens aan die begin van die 18de eeu bekendgestel het. Die begrip God word benoem met die woord uThixo, en dis bloot natuurlik om vir sy leiding en hulp te vra, veral ook wanneer ’n kind begeer word. Wanneer ’n kind gebore word, dan word ’n naam gekies om Hom te bedank.

Baie Xhosasprekers funksioneer gemaklik in sowel die Christelike as die tradisionele godsdienskonteks waar die voorvaders wat reeds die aarde verlaat het, nog steeds ’n belangrike rol speel. Die bonatuurlike krag word uQamata benoem. Hy is ’n veraf godheid wat nie direk by sy onderdane inmeng nie. Die voorvaders wat as tussengangers optree, is hier belangriker. Indien ’n kind gebore sou word, dan sal die naam van die kind ook erkenning gee en die voorvaders bedank vir hulle goedhartigheid teenoor die ouers van die pasgeborene. 

Baie name suggereer die begrip dankbaarheid, en dit is nie altyd duidelik of dit teenoor die Christelike God of die voorvaders is nie. Soms word albei dalk geïmpliseer. De Klerk en Bosch (1995:74) skets die volgende voorbeeld: ’n Seuntjie is vroeggebore, en die familie het hom in die hospitaal besoek en ’n “klein dingetjie” in ’n broeikas gevind. Hulle was so teleurgesteld en het nie gedink hy sou oorleef nie, en het hom by die voorvaders (amawethu) en God gelaat. Hy het egter oorleef en toe die naam Mawethu (= een van [ons] voorvaders) gekry.

Daar is uiteraard baie voorbeelde wat een of ander vorm van dankbaarheid uitbeeld. Hier volg ’n paar:

Nkosinathi: < inkosi “Here” + “met” + thi(na) “ons” = die Here is met ons
Nkosivumile: < inkosi “Here” + ivumile “Hy het ingestem” = die Here het ingestem
Nkosiphendule: < inkosi “Here” + -phendule “het geantwoord”= die Here het geantwoord
Ntombenkosi: < intombi “dogter/meisie” + (y)enkosi “van die Here” = die Here se dogter/meisie
Mntanenkosi: < umnt(w)ana “kind” + (w)enkosi “van die Here” = die kind van die Here
Mandlenkosi: < (a)mandla “krag” + enkosi “van die Here” = die krag van die Here
Bonginkosi: < -bonga “prys” + inkosi “die Here” = prys/dank aan die Here. 

Baie ander name druk bloot die begrip dankbaarheid van die familie vir die toevoeging uit:

Nombulelo/Mbulelo: < umbulelo = danksegging, dankbaarheid
Siyabulela: < si- “ons” + -ya- + -bulela “bedank” = ons is dankbaar . Die tydsmerker -ya- kom voor in eenwoordsinne en verteenwoordig ’n aksie in die teenwoordige tyd.
Nomthandazo: < no + umthandazo “gebed” = ’n gebed (as antwoord op versoek)
Vuyo/Nomvuyo: < uvuyo/no + uvuyo “blydskap” = blydskap
Vuyani: < vuya + -ni “wees bly” = wees bly, julle. Die meervoudige imperatief (bevelsvorm) -ni aan die einde van werkwoorde verteenwoordig meestal ’n manlike naam.
Ndivuyeleni: < ndi- “ek, my” + -vuyela “wees bly vir” + -ni “julle”= wees (julle) bly oor my (geboorte)
Sinovuyo: < si- “ons” + na- “met” + uvuyo “blydskap”= ons is bly
Ntsikelelo: < intsikelelo “seëning” = ’n seëning
Sipho/Nosipho: < (i)sipho “geskenk” = ’n geskenk
Siyamthanda: < si- “ons” + -ya- + -m- “hom” + -thanda “liefhê” = ons het hom lief.

Die laaste voorbeeld hier bo (Siyamthanda) is die volle voornaam van Siya Kolisi, Suid-Afrika se kaptein tydens die onlangse (2019) Wêreldrugbybekertoernooi wat in Japan gehou is. Baie min mense weet dis sy volle voornaam met die mooi betekenis soos hier bo aangedui. Die naam Siya dra geen leksikale betekenis nie. Soos hier bo by ’n ander voorbeeld verduidelik word, beskik sy naam ook oor die tydsmerker -ya-. ’n Voorwerpmerker -m- wat “hom” verteenwoordig, funksioneer ook in die eenwoordsin.

Langerige name word dikwels verkort en funksioneer dan as ’n bepaalde kategorie van byname. Baie navorsers (sien Neethling 1990, 1994, 2012; Bosch 1994, De Klerk en Bosch 1998, 2002; De Klerk 1998, 2002) het reeds byname onder die amaXhosa bestudeer. Dit word nie in hierdie bydrae behandel nie. 

Die voorvoegsel No- kom slegs by vroulike name by, soos ook in die vorige kategorie. Gysman (1992) verwys na ’n gesin wat beplan het om vyf kinders te hê. Na die toekenning van die name het hulle versigtig ’n sin geskep waarin al die name voorkom: Esi sipho sisiphiwe ngokuthembeka nokuthobeka kumawethu (“Hierdie geskenk [= die kinders] is aan ons gegee omdat ons vertrou op en gehoorsaam is aan ons voorvaders”).

Die vyf name het soos volg in die sin verskyn: Nosipho (“geskenk”), Siphiwo (“geskenk”), Thembeka (“die betroubare een”), Thobeka (“die gehoorsame een”) en Nomawethu (“een van ons”, naamlik die voorvaders). Al hierdie name kan in die eerste twee kategorieë voorkom.

Die begrip dankbaarheid word baie effektief in die name vervat. Baie voorbeelde kan nog bygevoeg word. 

5.3 Samestelling/uitbreiding van die gesin

Hierdie kategorie is deesdae ’n baie gewilde kategorie, een wat Thipa (1986, 1987) en Mthembu-Salter (2001) nie gebruik het nie. Dit gaan oor die samestelling van die gesin in terme van geslag. Onder sowel die Xhosasprekendes as die Zoeloes (sien Koopman 2002:35) is dit belangrik om ’n gebalanseerde samestelling te hê. ’n Man met baie seuns is daarvan verseker dat die familielyn sal voortgaan, maar as hy nie ook dogters het nie, loop hy gevaar om weens die lobolagebruik ’n groot aantal beeste (of finansiële bates) aan die bruide se families te betaal. Sodoende kan hy letterlik verarm. As hy egter baie dogters het, maar geen seuns nie, sal hy verryk word deur die lobolabeeste (of ander wêreldse goed), maar sy familielyn sal saam met hom sterf. Ouers is dus deeglik hiervan bewus en hou die balans fyn dop. ’n Mooi voorbeeld hiervan is die volgende: ’n Meisie met die naam Nomalinge (< ilinge = “probeerslag”) het die naam gekry na vier seuns gebore is, en die ouers desperaat was om ’n dogter te kry. 

In die laaste jare is die werkwoordmorfeem -anda (om uit te brei, toe te neem) ’n baie gewilde keuse. Die naam doen aan die hand dat die gesin groter geword het. Algemene en gewilde voorbeelde sluit in:

Bandile: < ba- “hulle” (= die kinders) + -andile “het toegeneem” = hulle het meer geword
Sandile: < si- “ons” + -andile “het toegeneem” = ons het meer geword
Mzwandile: < (u)mzi “huis” + -andile “het toegeneem” = die huis (familie) het meer/groter geword
Lwandile: < lu- “dit (= die gesin)” + -andile “het uitgebrei” = dit (die gesin) het meer geword. Lu- is die onderwerpmerker van die naamwoord usapho wat “gesin” beteken.
Andile: < a- “hulle” + -andile “het uitgebrei” = hulle het meer geword.

Die suffiks -ile dui aan dat dit ’n manlike naam is. Die laaste voorbeeld se onderwerpmerker, naamlik a-, kan as genderneutraal beskou word, want dit kan na amantombazana (dogters/meisies), óf na amakhwenkwe (seuns) verwys. 

Sommige voorbeelde afgelei van -andile kan as dubbelsinnig in terme van geslag beskou word. Vergelyk die volgende: 

Siyanda: < si- “ons” + -ya- + -anda “neem toe”= ons word meer. Dis meer algemeen as ’n manlike naam.
Lusanda: < lu- “dit” (= die gesin) + -sa- “nog” + -anda “neem toe” = Dit (die gesin) word nog meer. Soos bo aangedui, verwys die lu- na usipho (gesin).
Bayanda: < ba- “hulle” + -ya- + -anda “neem toe” = Hulle word meer.

’n Ander werkwoordstam wat soms gebruik word, is -ongeza (“voeg by”):

Songezwa: < si- “ons” + -ongezwa “is bygevoeg” = een is tot ons bygevoeg. Indien die passiefmerker -wa/-iwe aan die einde gebruik word, is die nuutgeborene ’n dogter.

Indien bepaalde leksikale items gebruik word om geslag duidelik aan te dui, is dit die ouers se doelwit om dit in die naam aan te dui, naamlik dat ’n seun of ’n dogter nou tot die gesin toegevoeg is. ’n Paar voorbeelde:

Mzwamadoda: < (u)mzi “huis” + wa- “van” + amadoda “mans” = huis vol mans
Madodonke: < (a)madod(a) “mans” + onke “almal, net” = almal mans, net mans

Voorbeelde van vroulike name sluit dikwels die leksikale item intombi (“dogter/meisie”) in:

Nontombi: < no + intombi = “dogter/meisie”
Ntombentsha: < (i)ntomb(i) “dogter/meisie” + entsha “wat nuut is” = ’n nuwe dogter/meisie
Ntombifikile: < (i)ntomb(i) “dogter/meisie” + ifikile “het gearriveer” = ’n dogter/meisie het gearriveer
Ntombizodwa: < (ii)ntombi “meisies” + zodwa “almal, net” = net dogters/meisies
Nokwayiyo: < no- + kwa- “ook” + yiyo “dit is een” = dis ook een. Hierdie voorbeeld is besonders: Die No- dui aan dis ’n vroulike naam. Die ouers is desperaat: Dit blyk dat hulle net dogters het, hulle is teleurgesteld, en kan nie aan ’n mooi naam dink nie. Hierdie voorbeeld dui daarop dat die babadogter haar identiteit deur haar susters wat voor haar gebore was, vind. Koopman (2002:49) gee ’n uitstekende voorbeeld van ’n soortgelyke penarie by ’n Zoeloefamilie. Die vader het net seuns en by die geboorte van sy laaste en sewende seun het hy hom uit desperaatheid die naam Mbizeni gegee (“Wat moet hy genoem word?”). Biza is die Zoeloe-werkwoord vir “benoem”. Dit was asof hy nie meer aan enige geskikte manlike naam kon dink nie.

’n Ander groepie name suggereer dat die ouers besluit het dat hulle genoeg kinders het, en die een wat laaste gebore is, kry ’n sodanige naam om dit te bevestig. Soms verwys dit na die geslag van die kinders. Die werkwoordstam -anela/-anele (“word/is genoeg”) word dikwels gebruik:

Ntombizanele: < (ii)ntombi “dogters/meisies” + -anele “is genoeg” = die dogters/meisies is genoeg
Zanele: < zi- “hulle” (= dogters/meisies) + -anele “is genoeg” = hulle is genoeg. Dis net ’n verkorte vorm van die vorige voorbeeld.
Sanele: < si- “ons” + -anele “is genoeg” = ons is genoeg
Mzwanele: < (u)mzi “huis” + -anele “is genoeg” = die familie is groot genoeg, die huis is vol.

Soms word geboorte geskenk aan ’n tweeling. Soos reeds hier bo aangedui, word daar dan in die Xhosagemeenskap twee name gegee wat op die een of ander wyse, meestal semanties, met mekaar verband hou. Die eertydse Xhosaskrywer S.E.K. Mqhayi het ’n roman geskryf met die titel Ityala lamawele, wat in Afrikaans vertaal kan word as Die hofsaak van die tweeling (1970). Die Xhosawoord vir ’n tweeling is amawele. In die boek word een van die tweeling Wele en die ander een Babini (= “hulle is twee”) genoem.

’n Ander voorbeeld word deur Gysman (1992:19–20) verskaf: Na die geboorte van die tweeling het ’n frase ontstaan: Bezile bemanyiwe, wat beteken “hulle het verenig gekom”. En daarna het die een die naam Bezile (“hulle het gekom”) gekry, en die ander een die naam Bemanyiwe (“terwyl hulle verenig was”). Identiteit is dan uitgedruk by wyse van ’n verhouding tot ’n ander een, ’n soort van kollektiewe identiteit.

Opsommend ten opsigte van hierdie kategorie kan dit gestel word dat dit duidelik baie gewild is en dat baie ander voorbeelde bygevoeg kan word. Ouerpare is trots daarop om die samestelling van hulle gesin by wyse van name uit te beeld, en ook om die uitbreiding van die gesin gewoonlik by wyse van geslag in die naam aan te toon.

5.4 Omstandighede tydens swangerskap/by geboorte

Nog ’n prominente kategorie is name wat spontaan ontstaan het net voor, tydens, of net na geboorte. Dat hierdie kategorie ’n spesifieke kulturele patroon uitbeeld, kan betwis word, maar dit is tog algemeen in baie ander Afrikalande. Dit is egter vernuwend en soms humoristies. Die omstandighede rondom die geboorte kan nie voorspel word nie, en as sodanig vorm die name nie ’n patroon nie. Sommige van die name kan selfs in ander reeds bespreekte kategorieë voorkom. Volgens Ntwana (1994:19) is die voorkoms van sodanige name nie meer so volop in moderne tye nie, omdat bevallings merendeels in hospitale geskied waar goeie mediese fasiliteite bestaan en komplikasies vinnig hanteer kan word. 

Sommige name verwys na probleme wat die vroue tydens swangerskap voor die geboorte ervaar het. ’n Paar voorbeelde hiervan volg.

Celukuphila: < -cela “vra” + ukuphila “om te lewe” = Hy wat vra om te lewe/gesond te wees. Die eggenoot het so gereageer: “My vrou was baie siek tydens haar swangerskap en ek het God gevra om gesondheid aan haar te gee.”
Thandazile: < -thandazile “het gebid” = Hy wat gebid het. Die moeder het so gereageer: “Ek was so siek tydens my swangerskap dat ek God vir my herstel gevra het.”
Sithembiso: < isithembiso “belofte” = Belofte. Een van die ouers het gesê: “Die Bybel vertel ons dat die Heer enigiets belowe wat in sy naam gevra word, en hier is ons seun.”

Dit is egter die totaal ongewone omstandighede wat impulsief tot buitengewone name lei. Selfs indien die ouers reeds vooraf aan bepaalde name gedink het, het die ongewone gebeure aanleiding gegee tot die nuwe naam wat ingespeel het op die rare en vreemde omstandighede. Gysman (1992:19) het die volgende storie vertel: Die jong swanger vrou het in kraam gegaan en toe was daar komplikasies. Die dokters het mekaar geraadpleeg en op ’n keisersnit besluit, en ook die toekomstige vader van hulle besluit verwittig om sy toestemming te verkry. Hy het geweier deur die volgende kwyt te raak: Nada nathi makatyandwe, nakanye! Sy reaksie in Afrikaans sou só kon lui: “Het julle nou gesê daar moet op haar geopereer (oopgesny) word, nooit!” Hy is egter oorreed dat dit die beste vir die moeder en die baba sou wees, en hy het huiwerig toegestem. Die keisersnit het vlot verloop. Die kind, ’n dogter, se volle naam is summier geregistreer as Nada nathi makatyandwe nakanye, maar in die alledaagse lewe het sy bekend gestaan as Nada, ’n naam sonder enige betekenis. Dis ’n goeie voorbeeld van hoe onvoorsiene omstandighede naamgewers kan beïnvloed. 

Soms moet swanger vroue onverwags geboorte skenk in veraf vreemde plekke. Dis nie ongewoon dat mense wat behulpsaam was by die geboorte of die plek waar die geboorte plaasgevind het, soms in die naam van die pasgeborene herdenk word nie. Die Daily Dispatch (14 Junie 1999) het ’n berig gepubliseer van ’n swanger vrou op ’n Greyhound-bus onderweg na Mthatha. Die bus moes stop sodat die vrou kon kraam. Toe is die kind Umtata Greyhound genoem. (Dit was voor die nuwe spelling van die dorpnaam.)

Een van die deelnemers van UWK dra die naam Viwe, wat beteken “is gevoel”. Sy het vertel dat haar swanger ma met haar haar eerste kontraksies gevoel het toe sy die verpleegkunde-eksamen geskryf het.

Die verskyning van die baba gee dikwels aanleiding tot die skepping van ’n naam en wat die oomblik verewig. Die gelaatskleur, die ooreenkoms met iemand anders, die baba se grootte, ens. kan almal bydra tot die skepping van ’n naam. De Klerk en Bosch (1995:75) onderskei ’n bepaalde subkategorie wat hulle “Physical appearance” (fisieke voorkoms) noem. Hier volg ’n paar sodanige voorbeelde in geen bepaalde volgorde nie: 

Nontsikizi: < intsikizi “swart voël” = dogter/meisie met ’n donker gelaatskleur
Somikazi: < isomi “spreeu” = dogter/meisie met donker vel. Die agtervoegsel -kazi dui op vroulikheid.
Nomasomi: < isomi “mooi spreeu” = mooi en aantreklike baba. Geen sprake van ’n “donker” gelaatskleur nie.
Mnyamana: < -mnyama “swart” = babaseun met donker gelaatskleur
Notumato: < Eng. leenwoord “tomato” = mooi dogter/meisie by geboorte met rooierige gelaatskleur
Nofoto: < Eng. leenwoord “photo” = dogter/meisie beweer sy het presies soos haar ouma by geboorte gelyk
Nomhle: < -hle “mooi” = ’n mooi dogter/meisie by geboorte
Zintle: < zi- “hulle” + -hle “mooi” = ’n mooi laaste dogter/meisie (alhoewel sy nie “mooi” was nie)
Ntozimbi: < (i)nto “iets, ’n ding” + zimbi “hulle is lelik” = ’n lelike babaseun
Ntlokozenkomo: < (i)ntloko “kop” + ze(e)nkomo “van die beeste” = babaseun met baie groot kop.

Sommige name hou verband met baie algemene omstandighede, byvoorbeeld weersomstandighede: 

Nolita: < Eng. leenwoord “light” = dogter/meisie wat gedurende die dag gebore is
Nontsasa: < (i)ntsasa “vroegoggend” = dogter/meisie vroegoggend gebore
Nomvula: < (i)mvula (reën) = dogter/meisie gebore toe dit gereën het
Nomaqabaka: < (i)qabaka “koue” = dogter/meisie gebore toe dit baie koud was
Nokresmesi: < Eng. leenwoord (i)kresmesi “Kersfees” = dogter/meisie op Kersdag gebore
Nopasika: < Eng. leenwoord (i)pasika “Paasfees” = dogter/meisie tydens Paasfees gebore.

Selfs woorde vir maaltye kom voor:

Nobrakfesi: < Eng leenwoord “breakfast” = dogter/meisie tydens ontbyt gebore
Nodinala: < Eng. leenwoord “dinner” = dogter/meisie tydens aandete gebore
Nosopholo: < Eng. leenwoord “supper” = dogter/meisie tydens aandete gebore.

Dis interessant dat net meisiename vanuit hierdie alledaagse kontekste voorkom. Dis nog nie verklaar nie, alhoewel De Klerk en Bosch (1995:78) die opmerking maak dat hierdie name eintlik verbeeldingloos is. Net by kinders wat eerste en tweede gebore is, is daar ’n sterk begeerte by ouers om aan die naamgeetradisies te voldoen, en dit geld nie meer by dié wat later kom nie. Wanneer ontlening uit ander tale figureer (soos hier bo), is so ’n siening waarskynlik moontlik, alhoewel dit tans steeds bespiegeling bly. Indien hedendaagse tydskrifte, koerante en televisiereekse bekyk word, kom hierdie tipe naam nie meer voor in die moderne Xhosa-samelewing nie. 

In sommige Afrikagemeenskappe kan kinders (ook seuns) vernoem word na die bepaalde dag van die week waarop hulle gebore is. Die name van twee Afrikaleiers sal dit illustreer:

Kwame: Dis die voornaam van die voormalige Ghanese politieke leier, Kwame Nkrumah. Kwame beteken “manlike kind gebore op Saterdag”.
Kofi: Kofi Annan het bekend geword as die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies. Kofi beteken “manlike kind gebore op Vrydag”.

In die Xhosa-data kom ook ’n paar sodanige name voor, maar weer eens net vroulike name: 

Nocawe: < (i)cawe “Sondag” = dogter/meisie gebore op Sondag
Nomvulo: < (u)mvulo “Maandag” = dogter/meisie gebore op Maandag
Nomgqibelo: < (u)mgqibelo “Saterdag” = dogter/meisie gebore op Saterdag.

Dit kan bloot toevallig wees dat so baie dogtername met die vroulike merker No- in hierdie kategorie voorkom. Alle beskikbare data sal vergelyk moet word om vas te stel of ouers ’n voorliefde daarvoor het om hulle babadogters met hierdie name te benoem. Dit wil voorkom asof hierdie name, vernoem na ’n dag van die week, minder kulturele waarde as ander tipe name het. Omdat meisies die oorweldigende draers van hierdie name is, kan die suggestie geskep word dat die patrilineêre Xhosagemeenskap dalk onbewustelik hierdie minder belangrike name na die vroulike geslag relegeer. 

Die tipes van hierdie kategorie wat op een of ander besondere wyse die omstandighede voor of by geboorte beskryf, verskil baie. Omdat dit dikwels die onvoorspelbare daarstel, sal dit waarskynlik so bly. Die besonderheid van die name weerspieël ook die mooiheid daarvan: Die naamgewers word so opgesweep deur die omstandighede en die emosies wat daarmee saamgaan, dat hulle naamgewing gebruik om hulle emosies uit te druk. Sommige name volg dus nie die kultuurgebaseerde “patroon” soos dit meestal verwoord word nie. Dit is nie duidelik hoe die naamdraers reageer soos hulle grootword nie. Dalk kan trots en aanvaarding geskied omdat sommige name uniek is.

5.5 Sterfte: Oorlewing en vertroosting

Die dood van ’n kind word in enige gemeenskap as traumaties beskou, veral dalk nog meer in gemeenskappe waar die geboorte van ’n kind toegeskryf word aan die welwillende ingryping van ’n bonatuurlike krag. Sou ’n kind dan sterf, word dit dikwels geïnterpreteer as die invloed van bose magte, want dit word nie maklik aanvaar dat ’n kind voor die ouers sterf nie. Die Xhosagemeenskap stoei met al die vrae wat ’n kindersterfte bring.

Een wyse waarop so ’n opset hanteer word, is om ’n kind wat na die sterfte van ’n vorige kind gebore word, te benoem met ’n neerhalende of verkleinerende naam. Die frustrasie en wanhoop van die ouers gekoppel aan ’n doodgebore kind, miskraam of ’n vroeë dood, laat die ouers dit dikwels oorweeg om ’n betekenislose of neerhalende naam aan die nuwe aankomeling te gee. Die redenasie is dat die draer van so ’n naam as nutteloos en nie waardevol nie beskou sal word. Dit is ’n boodskap aan die bose magte dat hulle hul nie hoef te steur aan hierdie nuweling nie. Op hierdie manier het die nuweling ’n beter kans om te oorleef. Die onderstaande voorbeelde kom voor in Bangeni en Coetser (2000:63). Alhoewel Bangeni Xhosasprekend is, gee hulle geen verdere verduideliking van die Xhosaname nie. Xhosabronne dui dit ook nie aan nie. Dis nie ’n baie groot kategorie nie, en hier volg hulle voorbeelde:

Nomathaxase: “sonder vorm, grasie, of selfbeheersing”
Nomatyhifilili: “lelik en onsmaaklik”
Nonduxu: “groot en lelik”
Nontwingento: “waardeloos”

Die name, weer almal vroulik vanweë die No- voorvoegsel, het ’n besliste “ou” vorm, wat waarskynlik De Klerk en Bosch (1995:70) se bevinding staaf dat sodanige name nie juis meer in ’n moderne Xhosasamelewing voorkom nie. In een bron (Kropf en Godfrey 1915) kom die term ubu-tyifili voor met die betekenis van “stupidity, folly”. Dis die naaste aan een van die bostaande voorbeelde (Nomatyhifilili).

Die teendeel van hierdie uiters negatiewe reaksie is ’n positiewe een waar die ouers verheug is dat ’n nuwe geboorte op die sterfte gevolg het. Hierdie nuutgeborenes kry positiewe name, en word beskou as ’n vorm van kompensasie en vertroosting: 

Nomathamsanqa: < ithamsanqa = “goeie geluk”. Die deelnemer het opgemerk dat sy die enigste dogter was wat geleef het.
Nontuthuzelo: < intuthuzelo = “vertroosting”. Die deelnemer het opgemerk dat sy die plek van die oorlede broers ingeneem het, en sodoende die res van die familie vertroos het en weer die vrede herstel het.
Nomawethu: < iwethu = “voorvader”. Die voorvader(s) is bedank deur hierdie naam na die dood van ’n vorige baba.
Nomalizo: < ilizo = “een wat ons bygestaan, gehelp, vertroos het”.

Dit is ook ’n klein kategorie, wat waarskynlik daarop dui dat die ouers en die familie die vroeë sterftes verwerk het en dit ook op ander wyses hanteer, nie net deur naamgewing nie.

5.6 Naamherdenking/Affiliasie

In die Oos-Kaap het De Klerk en Bosch (1995:73) die naamgeepraktyke tussen die Xhosa- en die Engelssprekende gemeenskappe vergelyk, en hulle het ook ’n kategorie geskep met die naam Commemorative. Daar is verskillende subkategorieë. Ten opsigte van Xhosaname lyk dit asof die beste opsie waarskynlik is om ’n naamherdenking ten opsigte van ’n affiliasie uit te beeld. Xhosasprekers beskik oor ’n clan-naam (isiduko) wat aan dieselfde voorvader gekoppel is. Wanneer Xhosasprekers mekaar vir die eerste keer in ’n meer tradisionele konteks ontmoet, doen hulle gewoonlik op die volgende wyse navraag oor die clan-affiliasie: “Ngubani isiduko sakho?” (Wat is jou clan-naam?). So kan hulle die clan-verwantskap bepaal, wat dan ook die kulturele identiteit bepaal. Die skakel tussen naam en identiteit is belangrik in die Xhosagemeenskap en die clan-verwantskap dra daartoe by om dit uit te lig. Daar bestaan talle clans onder die sambreelterm amaXhosa, en hulle name kom dan in persoonsname soos die volgende voor: 

Mahlubi/Nomahlubi (Hlubi)
Mashwabada (Shwabada)
Gcina (Gcina)
Bhelekazi/NomaBhele (Bhele)
NomaWushe (Wushe)
NomaTshawe (Tshawe)
NobaThembu (Thembu)
NomaZizi (Zizi)
NomaMpondo(Mpondo)
NomaTshezi (Tshezi).

Soms sal die clan-naam aan ander frases gekoppel word, dikwels om ’n vermeerdering in getalle te bevestig deur die gebruik van die werkwoordstam -anda (soos ook in ’n vorige kategorie), ’n aansporing en aanmoediging om na die sake van die clan om te sien, of om dankbaarheid uit te druk. Baie van hierdie name sou in vorige bespreekte kategorieë geakkommodeer kon word, maar die skakel met die clan noodsaak hierdie afdeling:

Mahlubandile: < amaHlubi “die Hlubi’s” + -andile “het uitgebrei” = die Hlubi-clan het uitgebrei
Mabhelandile: < amaBhele “die Bheles” + -andile “het uitgebrei” = die Bhele-clan het uitgebrei
MaJolandile: < amaJola “die Jolas” + -andile “het uitgebrei” = die Jola-clan het uitgebrei
MaZizandile: < amaZizi “die Zizi’s” + -andile ‘het uitgebrei’ = die Zizi-clan het uitgebrei
JongamaBhele: < jonga “kyk na/sien om na” + amaBhele “die Bheles” = kyk na/sien om na die Bhele-clan
AbongilamaBhele: < abongile “hulle het bedank/geprys” + amaBhele “die Bheles” = die Bhele-clan is dankbaar.

Daar is baie min ander name wat ander bepaalde gebeurtenisse uitbeeld. Dit is egter moontlik dat sodanige “gedenkname” weer in die toekoms kan ontwikkel.

5.7 Neerhalende/negatiewe name

Die laaste kategorie wat Xhosanaamgewing in hierdie bydrae betref, gaan oor neerhalende of negatiewe name. Indien ’n neerhalende of negatiewe boodskap in ’n naam vervat word, is dit redelik seker dat die faktore wat daartoe aanleiding gegee het of bygedra het, waarskynlik nie beskikbaar gaan wees nie. Die naamdraers weet meestal nie, of as hulle weet, deel hulle dit nie maklik met ander Xhosasprekers nie. Dikwels kan ’n mens gewoon net spekuleer oor die omstandighede wat tot die naam gelei het.

Die naamgewingproses behels in beginsel ’n baie positiewe aktiwiteit. Dit sonder hoogtepunte uit van die individu of sy familie, die aspirasies of verwagtinge van die nuutgeborene, die dankbaarheid teenoor ’n hoër gesag, dié se rol in die lewe en in sy familie, die gespog oor die toename in die familie, en die herdenking of affiliasie van die individu en sy familie. Oor die algemeen weerspieël die name ’n positiewe trots in die familie en wat hulle voorstaan.

Hierdie bepaalde kategorie, wat lyk asof dit die teenoorgestelde uitbeeld, is dus op een of ander dramatiese wyse gekoppel aan onverwagse en onaangename gebeure wat die ewewig versteur het, en om die naamgewers te “dwing” om atipiese name, moontlik uit die tradisie, te kies om hierdie negatiewe omstandighede te weerspieël. Die feit dat name dikwels semanties deursigtig is, vererger die naam vir die draer: Elke keer as die naam genoem word, aan gedink word of geskryf word, word die naamdraer op ’n kragtige manier aan die onaangename herinneringe blootgestel wat tot die bepaalde naam gelei het. Daarom word hierdie kategorie as ’n eiesoortige een beskou.

Thipa (1987:112) lê klem op kinders wat buite-egtelik gebore word, en beskou hulle as “rocking the boat”, met ander woorde die kalm verhouding in ’n huis, in die gemeenskap en tussen die gemeenskap en die bonatuurlike, word ontwrig. Ongewenste swangerskappe veral onder die jeug is deesdae baie algemeen, ook onder die amaXhosa. Waarskynlik moet Thipa se sterk bewoording beoordeel word teen die agtergrond van die tyd toe hy dit waargeneem het.

Dit is egter nie net seksuele oortredings wat tot ongewenste name lei nie. In haar inleiding verwys Mthembu-Salter (2001:10) na name soos Jabhile wat “ontevredenheid”, en Zanempi wat “een wat oorlog bring” beteken. In haar “temas” verskyn begrippe wat hierdie negatiewe name verteenwoordig, naamlik bekommernis, verwarring en onsekerheid, bedrog en geheimhouding, misnoeë, skinder, vyandigheid en verwoesting, teenspoed en oortreding. Omdat sy name uit al die Ngunigroepe gekies het, is dit problematies om die Xhosaname uit die alfabetiese lys te identifiseer. Sy het ook nie kategorieë geskep nie.

Hierdie negatiewe name is redelik skaars. Volgens ’n student het meisies vroeër dikwels die naam Nolishwa gekry wat “teenspoed” beteken, maar nie meer nie. Oor die teenspoed wou sy nie uitwei nie. ’n Manlike student het die naam Nyakambi < unyaka “jaar” + mbi “is sleg” = ’n slegte jaar. Niemand noem hom op daardie naam nie, maar gebruik sy Engelse naam. ’n Mens kan gewoon spekuleer oor die swak omstandighede wat die naamdraer se familie in daardie jaar ervaar het.

’n Soortgelyke naam kom voor by ’n welbekende vakbondleier, Zwelinzima Vavi. Hy was ’n vorige sekretaris-generaal van Cosatu (1999–2015). Sy geboortedatum is 1962, en hy is in ’n gesin met nog vier broers en sewe susters. Waar hy inpas, is nie duidelik nie, maar miskien speel hierdie buitengewoon groot gesin ’n rol in die naam wat hy gekry het. Ilizwe is die volledige woord vir “land”, en -nzima is ’n deskriptief wat “swaar, moeilik” beteken. Die klasprefiks van ilizwe (klas 5), naamlik ili- verval en die woord word verkort tot zwe- gevolg deur die onderwerpmerker li- + -nzima, met ander woorde “die land kry swaar”. Die betekenis van sy voornaam het nie destyds aandag getrek nie. Alhoewel Vavi polities gesproke grotendeels eintlik van die toneel verdwyn het, dra hy vandag daardie geboortenaam wat inderdaad van toepassing is op baie Suid-Afrikaners wat ekonomies swaarkry.

Ander negatiewe name:

Velaphi: < vela “kom van” + phi “waar?” = Waar kom jy vandaan?
Nomfazwe: < imfazwe “oorlog” = moeder van oorlog
Nontshaba: < iintshaba “vyande” = moeder van vyande
Nonyewe: < unyewe “twispunt” = moeder van (’n) twispunt
Dideka: < -dideka “verwar wees” = is/wees verward

In gevalle soos hier bo waar die vroulike merker No- voorkom, verskaf Xhosasprekers dikwels die verwysing na die persoon wat deur hierdie negatiwiteit gekenmerk word as die “moeder” van die onmin.

Ntwana (1994:21) verskaf nog twee voorbeelde: 

Xolani: < -xola “vergewe” + -ni (imperatiewe suffiks) = vergewe (hulle)! Die naamdraer verduidelik dat sy buite-egtelik gebore is en haar tante probeer het om haar teleurgestelde grootouers te vertroos.
Nompazamo: < impazamo “fout” = fout. Die naamdraer verduidelik dat sy nie ’n beplande baba was nie en ook buite-egtelik gebore is.

Mthembu-Salter (2001) verskaf ook ’n lys van negatiewe name, maar geen verdere inligting waarom die name toegeken is nie. Hier volg ’n paar:

Bazini: < ba- “hulle” + -azi “weet” + -ni “wat?” = Wat weet hulle?
Zifihlephi: < zi- “jouself” [refleksief] + -fihla “steek weg / wegkruip” + phi “waar?” = Waar kan jy wegkruip?
Phumephi: < -phuma “vandaan kom” + phi “waar?” = Waar kom jy vandaan?
Danisile: < -danisa “het teleurgestel” = een wat teleurgestel het
Madolonzima: < amadolo “knieë” + -nzima “swaar” = die twyfelagtige een. Die verband lê op die figuurlike/idioomvlak, met ander woorde die individu na wie verwys word, lyk nie opgewasse vir die taak wat vir hom voorlê nie.
Mhlebekile: < m- “hy/sy” + -hlebekile “is oor geskinder” = die een oor wie [maklik] geskinder word
Diliza: < -diliza “vernietig, afbreek” = die vernietiger
Mpisendlini: < impi “strydlustige faksie” + endlini “in die huis” = daar is ’n geveg in [ons] huis
Sonosakhe: < isono “sonde” + sakhe “van hom” = sy sonde. 

Oor die redes vir hierdie name kan ’n mens spekuleer. Sodanige name is redelik skaars deesdae, terwyl Mthembu-Salter se data eintlik die teenoorgestelde verteenwoordig. Sy het ’n redelike aantal van hierdie negatiewe name onder Ngunisprekers versamel. Opmerkings deur die naamgewers of die naamdraers sou die interpretasie van hierdie name vergemaklik het. Dis nie duidelik of hierdie kategorie afneem of selfs toeneem nie.

 

6. Ten slotte

Dit behoort duidelik te wees dat naamgewing ten opsigte van persoonlike name onuitputlik is. Bepaalde Xhosaname, veral dié wat as positief beskou kan word, word herhaaldelik gebruik as ’n bepaalde konvensie, maar daar is nog steeds uiters baie geleenthede om kreatiewe naamgewing te beoefen. Dat baie Xhosaname intrinsieke dele van IKS oor ’n baie lang periode vorm, is uiteraard waar, maar IKS skep ook ruimte vir moderne en kreatiewe naamvorming wat geleidelik maar ook onvermydelik deel sal vorm van IKS. 

Omdat basiese sosiolinguistiese faktore soos omgewing, status en ouderdom nie in hierdie bydrae aandag geniet het nie, sou daar waarskynlik geargumenteer kon word dat die uiteindelike resultate kon verskil. Maar die finale bevindinge toon duidelik dat die oorspronklike en tradisionele naamgewingspatrone baie prominent figureer, al word baie Xhosakinders deesdae in ’n stedelike middelklasomgewing gebore. Dit wil voorkom asof die IKS ten opsigte van naamgewing baie belangrik geag word, en dat weggedoen word met die ou patroon om ’n tweede, Engelse naam te gee. 

Persoonlike naamgewing onder die amaXhosa gaan hand aan hand met óf gebruikmaking van bestaande name, óf die skepping van nuwes. Die verskillende kategorieë wat in hierdie bydrae aandag geniet het, het bepaalde kultuuraspekte toegelig. Name in die Xhosagemeenskap funksioneer nie net as ’n verwysingsraamwerk om bepaalde individue van mekaar te onderskei nie. In ’n Euro-Westerse konteks funksioneer name hoofsaaklik op hierdie vlak, maar onder die amaXhosa is name sterk gekoppel aan familiebande, en hulle is dikwels semanties deursigtig. Hierdie betekenisvolle aspek bly ’n baie belangrike element. Xhosa is ’n taal met ’n uitgebreide woordeskat, wat ook deur taalkundige afleiding geweldig baie moontlikhede ten opsigte van naamgewing bied. Vernuwende naamgewing kom van tyd tot tyd voor, en skep ’n nuwe naamskat wat onophoudelik groei. 

Onomastiek is ’n multidissiplinêre studieveld wat vele uitdagings bied. Antroponimie, dit wil sê die naamgewing oor en aan mense, is een van die uitdagings. Omdat dit verband hou met hierdie aktiwiteit wat feitlik alle mense dwarsoor die wêreld een of ander tyd besig hou, is dit waarskynlik die belangrikste een.

 

Bibliografie

Bangeni, G.N. en A. Coetser. 2000. Xhosa first names, societal values and power relations. Nomina Africana, 14(2):59–69.

Bekker, S. en A. Leildé (reds.). 2006. Reflections on identity in four African cities. Plek nie vermeld: African Minds Publishers.

Bosch, B. 1994. Bynaamnavorsing: ’n Bestekopname. Nomina Africana, 8(2):27–39. 

Coetser, A. 1996. Afrikaans se bydrae tot familiename in Xhosa. Nomina Africana, 10(1/2):43–53.

De Klerk, V. 1998. Nicknaming across cultures: Borrowing and other linguistic tricks. Nomina Africana, 12(1):1–14.

—. 1999. Beauty or Buhle? On changing one’s name. Nomina Africana, 13(1/2):1–17.

—. 2002a. Changing names in the “New” South Africa: A diachronic survey. Names, 50(3):201–221

—. 2002b. Xhosa nicknames for whites: A double-edged sword. Nomina Africana, 16(1/2):146–63.

De Klerk, V. and B. Bosch. 1995a. Naming in two cultures: English and Xhosa practices. Nomina Africana, 9(1):68–85.

—. 1995b. Byname in ’n multitalige milieu: Aanduider van taalprestige? Nomina Africana, 9(2):23–39.

—. 1996. Naming practices in the Eastern Cape province of South Africa. Names, 44(3):167–88.

—. 1997. Nicknaming among Xhosa-speaking children and adolescents. South African Journal of African Languages, 17(3):95–9.

Felecan, O. (red.). 2012. Name and naming: Synchronic and diachronic perspectives. Newcastle upon Tyne: Cambridge Scholars Publishing. 

Gysman, L.B. 1992. Naming among the Xhosas. Ongepubliseerde Honneursskripsie. Departement Xhosa, Universiteit van Wes-Kaapland.

Herbert, R.K. 1997. The politics of personal naming in South Africa. Names, 45(1):3–17. 

Joubert, E. 1987. Die swerfjare van Poppie Nongena. Kaapstad: Tafelberg.

Kropf, A en Godfrey, R. 1915. A Kafir-English Dictionary. Lovedale Mission Press.

Koopman, A. 2002. Zulu names. Pietermaritzburg: University of KwaZulu-Natal Press.

Mabeqa, T.V. 1998. Getting a new name: The Xhosa daughter-in-law. Ongepubliseerde referaat gelewer by die NSA-kongres. Hermanus, September.

Mthembu-Salter, L. 2001. Call me by my name. Kwela Books: Cape Town

Neethling, B. 2005. Naming among the Xhosa of South Africa. New York: Mellen Press.

—. 2012a. Bynames as an expression of identity: A student profile at the University of the Western Cape. In Nyström (hoofred.) 2012:23–38.

—. 2012b. The right to a good name: Muslim and Xhosa children. In Felecan (red.) 2012.

—. 2014. Xhosa onomastics as part of Indigenous Knowledge Systems (IKS). Names, 62(4):218–28. 

—. 2018. Onomastics. A multidisciplinary field of study. Krugersdorp: BooksAfrica.

Neethling, S.J. 1983. Enkele Xhosa-naamgewingkonvensies geïllustreer aan die hand van Elsa Joubert se Poppie Nongena. In Sinclair (red.) 1983. 

—. 1988. Voorname in Xhosa. Nomina Africana, 2(2):223–7. 

—. 1990. Iziteketiso in Xhosa. Nomina Africana, 4(1):11–34. 

—. 1994. Xhosa nicknames. South African Journal of African Languages, 14(2):88–92.

—. 2000. An onomastic renaissance: African names to the fore. South African Journal of African Languages, 20(3):207–16.

Nicolaisen, W.H.F. 1978. Are there connotative names? Names, 26(1):40–47.

Ntwana, L.T. 1994. Xhosa personal names. Ongepubliseerde Honneursskripsie, Departement Xhosa, Universiteit van Wes-Kaapland.

Nyström, S. (hoofred.). 2012. Binamn. Uppkomst, bildning, terminology och bruk. Norna-Rapporter 88 (’n Sweedse geleentheidspublikasie). NORNA-förlaget: Uppsala: Swedish Science Press.

Puttergill, C. en A. Leildé. 2006. Identity studies in Africa. In Bekker en Leildé (reds.) 2006. African Minds Publishers

Raper, P.E. (red.). 1986. Name. Verrigtinge van die Tweede Suider-Afrikaanse Naamkunde-kongres, Pretoria. 13–15 September 1983. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.

Shakespeare, William. 1967. Romeo and Juliet. Harmonthsworth: Penguin Books.

Sinclair, A.J.L. (red.). 1983. G.S. Nienaber – ’n huldeblyk. Bellville: UWK Drukkery.

Thipa, H.M. 1986. By their names you shall know them. In Raper (red.) 1986.

—. 1987. What shall we name him? Nomina Africana, 1(2):107–19.

Van der Merwe, W.L. 2005. Brief. Die Burger, 6 Mei.

Wassermann, H. en S. Jacobs. 2003. Shifting selves: Post-apartheid essays on mass media, culture and identity. Kaapstad: Kwela.

Zabeeh, F. 1968. What is in a name? An inquiry into the semantics and pragmatics of proper names. Den Haag: Martinus Nijhoff.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Persoonsnaamgewing onder die Xhosasprekendes van Suid-Afrika appeared first on LitNet.

Die evaluasie van organisasiekultuur en leierskap as boustene van strategiese bestuur ten einde dienslewering in die Suid-Afrikaanse Polisiediens te optimaliseer

$
0
0

Die evaluasie van organisasiekultuur en leierskap as boustene van strategiese bestuur ten einde dienslewering in die Suid-Afrikaanse Polisiediens te optimaliseer

Johan van der Merwe en Johan van Graan, Departement Polisiepraktyk, Skool vir Regspleging, Fakulteit Regsgeleerheid

LitNet Akademies Jaargang 17(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Die ontginning en verfyning van openbare bestuur in Suid-Afrika is ’n vakgebied wat ruimte bied vir toenemende navorsing. Teenswoordig, waar verbeterde prestasie van openbare administrateurs, insluitend polisiebestuurders, ’n morele noodsaaklikheid geword het, is doeltreffende openbare strategiesebestuursfunksies en bestuursvaardighede deurslaggewend vir effektiewe dienslewering. Doeltreffende strategiese bestuur in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is dus noodsaaklik ten einde effektiewe openbare dienslewering daar te stel. Hierdie artikel doen verslag oor ’n evaluasie van strategiese bestuur in die SAPD ten einde te bepaal in watter mate openbare dienslewering deur die organisasie geoptimaliseer kan word. Ons stel eerstens ondersoek in of effektiewe strategiese bestuur in die SAPD ’n invloed het op optimale dienslewering; tweedens, of effektiewe leierskap in die SAPD ’n bepalende faktor is vir die sukses van strategiese bestuur ten einde dienslewering te optimaliseer; derdens, of ’n geskikte organisasiekultuur in die polisiediens deur die leierskorps gevorm en in stand gehou word ten einde die nastrewing van organisasiedoeltreffendheid en effektiwiteit te verwesenlik; en laastens, of ’n geskikte organisasiekultuur noodsaaklik is vir die strategiesebestuursproses in die polisiediens. Die studie waarop hierdie artikel gebaseer is, is gegrond op ’n kwalitatiewe sistematiese oorsig met ’n doelbewuste steekproef van 213 artikels in nasionale koerante. Die bevindings van die studie dui daarop dat die SAPD uitdagings ervaar om strategiese bestuur toe te pas en terselfdertyd aanspreeklik te bly teenoor die gemeenskap aan wie effektiewe diens gelewer behoort te word. Aanbevelings vir die praktyk wat uit die studie gemaak word, laat die klem val op die belangrikheid van leierskap en organisasiekultuur as boustene van strategiese bestuur vir optimale dienslewering. 

Trefwoorde: dienslewering; leierskap; organisasiekultuur; strategiese bestuur

 

Abstract

The evaluation of organisational culture and leadership as building blocks of strategic management with a view to optimising service delivery in the South African Police Service

The development and refinement of public management in South Africa is a field of study that allows for increasing research. In the current period, when improved performance of public administrators, including police managers, has become a moral imperative, effective public strategic management functions and management skills are crucial for effective service delivery. Therefore, effective strategic management in the South African Police Service (SAPS) is essential for establishing effective service delivery. There is a need for effective service delivery in many parts of the South African public sector and, more specifically, in the SAPS. For example, the Independent Police Investigative Directorate (IPID) received 5 651 complaints against members of the SAPS in the 2017/2018 financial year (Republic of South Africa. Independent Police Investigative Directorate 2018). These included 3 661 charges of assault, 677 charges of discharging an official firearm, 436 charges of death resulting from police conduct, followed by 217 charges of torture. However, Merten (2014:4) notes that policing involves not only physical fitness and the handling of firearms, but how a service is delivered to the community and how the community experiences that service. The vision and mission of the SAPS is to create a safe environment for all people in South Africa. The mission of the SAPS is focused on the prevention of threats to any community’s safety and security and the investigation of any crimes. Indeed, the vision and mission of an organisation indicate the future direction of the organisation, as well as the organisation’s right of existence. Consequently, effective service delivery by the SAPS to communities can be measured by the fulfilment of this vision and mission statements. The vision, mission and values statement of the SAPS clearly indicates that the police must be transformed into an organisation that delivers accountable service and is bound to act within the values of a democratic society (South African Police Service 2019). The Service Delivery Improvement Programme (SDIP) in the SAPS was established to implement organisational restructuring at police offices in order to function more efficiently and to improve service delivery (Burger 2007:109). According to Burger (2013:1), the National Development Plan (NDP) of 2030 (National Development Plan 2030 2011) contains such far-reaching recommendations that if the plan is actually implemented, it should result in dramatic changes in the police and throughout the government structures so that the community benefits from better service delivery. Furthermore, Cordner and Scarborough (2010:299) mention that police leaders today are supposed to be community leaders who should understand the application of the law and ensure strong community support for the police and that the organisation’s mission is pursued. Newham (2013:1) proposes the following with regard to professionalism in the SAPS:

We don’t need more people in uniform – we need professional police officers who are better trained, motivated and managed. It is time for senior police leadership to be appointed following a transparent and competitive process. The practice of parachuting unknown and untested people into the senior ranks of the SAPS has contributed significantly to most of the police shortcomings experienced today. 

The study on which this article is based is grounded on a qualitative systematic review with a purposeful sample of 213 national newspaper articles. This article reports on an evaluation of strategic management in the SAPS in order to determine the extent to which public service delivery can be optimised by the organisation. We will examine, firstly, whether effective strategic management in the SAPS influences optimal service delivery; secondly, whether effective leadership in the SAPS is a decisive factor for the success of strategic management with a view to optimising service delivery; thirdly, whether a suitable organisational culture in the police service can be established and maintained by the leadership in order to achieve organisational effectiveness and efficiency; and, lastly, whether a suitable organisational culture is necessary for the strategic management process in the police service.

Data was obtained from national print media coverage in the form of 78 national newspaper articles published from 1 January 2014 to 31 December 2014. As a result, newspaper articles dealing with strategic management, service delivery in the SAPS, police culture, professionalism in the police, police management, perceptions of the SAPS, police leadership and complaints against the police served as the sample. The articles were directly linked to the strategic management, leadership and service delivery of the SAPS. Furthermore, a systematic review of 135 additional national newspaper articles dealing with strategic management and service delivery in the SAPS, published from 1 January 2015 to 31 December 2018, was carried out to determine whether the data obtained from national newspaper articles published from January 2014 to December 2014 was still relevant and valid. The results of the systematic review of newspaper articles published from 2015 to 2018 correspond with the results of the articles published in 2014 and thus confirm the relevance, validity and reliability of the articles published in 2014, which served as the original sample for the study on which this article is based. The data was obtained from the electronic database Sabinet (www.sabinet.co.za).

The findings of the study indicate that the SAPS is experiencing challenges in applying strategic management and at the same time remaining accountable to the community to which effective service delivery should be rendered. Recommendations for practice that can be drawn from the study focus on the importance of leadership and organisational culture as building blocks of strategic management for optimal service delivery. Therefore, the challenge for the SAPS is to maintain a high standard of administrative and management discretion, autonomy and dedication, while at the same time remaining subject to political control and accountability in respect of all communities to which a service should be delivered. The standard for the successful implementation and operation of the strategic management process is most likely whether the SAPS can simultaneously meet the demands of the market system and remain an instrument of the community. The SAPS can never focus exclusively on internal control measures. Owing to the unique nature of the organisation, the SAPS should be subject to the control of the communities. Public responsibility and accountability require that the evaluation of public interests be considered. Police conduct should be of such a nature that it passes the test of public evaluation, as well as legislative and judicial review.

The research clearly shows that effective strategic management can – with the necessary shifts in emphasis – have significant benefits for the SAPS. Strategic management can be applied in any organisation. The value for the organisation that is managed strategically is that it can handle the major influences of the external environment more easily and thus adapt proactively. The socio-political and economic circumstances in South Africa make policy adjustments in public organisations essential as a result of the dynamic changes in these areas. With the aid of a strategic plan, the SAPS management will be able to manage the organisation proactively, in keeping with the requirements of the internal and external environments. Effective police managers should be those that use strategic management optimally and actively enforce it so that effective service delivery can be provided optimally to the diverse communities.

The intensity and importance of senior police managers’ proactive planning task has increased dramatically in respect of the circumstances that South Africa is currently experiencing with the assault of crime on all communities. Proactive strategic planning is the primus inter pares of effective management. Nevertheless, strategic management is based on proper strategic planning. Strategic planning is regarded as a disciplined attempt to secure fundamental decisions and actions that can successfully direct the future of organisations such as the SAPS. Strategic planning involves decisions regarding the mission of the organisation, an outline of the aims and objectives, allocation of resources and the determination of operational guidelines. Strategic planning is sufficiently flexible to handle the unique – often irrational – environment in which the manager operates. The strategic management and planning techniques also appear to be valuable aids for the professional police manager with regard to the fulfilment of goals and objectives of the SAPS.

In summary, suffice it to say that the following formulated research hypotheses can be verified and accepted for the successful implementation of strategic management in the SAPS in order to optimise service delivery:

  • The implementation of effective strategic management in the SAPS has an influence on optimal service delivery.
  • Effective leadership in the SAPS is a decisive factor for the success of strategic management in order to optimise service delivery.
  • The leadership of the SAPS should establish and maintain a suitable organisational culture with a view to organisational efficiency and effectiveness.
  • A suitable organisational culture is essential for the successful implementation of the strategic management process in the SAPS.

Keywords: leadership; organisational culture; service delivery; strategic management

 

1. Inleiding en agtergrond

Daar bestaan ’n behoefte aan effektiewe dienslewering in groot dele van die Suid-Afrikaanse openbare sektor, en meer spesifiek die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (OPOD) het byvoorbeeld in die 2017/2018-boekjaar 5 651 klagtes teen lede van die SAPD ontvang (Republiek van Suid-Afrika. Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat 2018). Die meerderheid van hierdie klagtes sluit in 3 661 klagtes van aanranding, 677 klagtes van die afvuur van ’n amptelike vuurwapen, 436 gevalle van afsterwe as gevolg van polisieoptrede, gevolg deur 217 klagtes van marteling. Merten (2014:4) merk egter op dat polisiëring nie net oor die hantering van wapens of fisieke fiksheid handel nie, maar hoe ’n diens gelewer word aan die gemeenskap en hoe die gemeenskap daardie dienslewering ervaar. Die visie en missie van die SAPD het ten doel om ’n veilige omgewing vir alle mense in Suid-Afrika te skep. Die missie van die SAPD is geskoei op die voorkoming van die bedreiging van enige gemeenskap se veiligheid en sekuriteit en die ondersoek na enige misdade. Die visie en missie van ’n organisasie dui immers die toekomsrigting asook die bestaansreg van die organisasie aan. Effektiewe dienslewering deur die SAPD aan gemeenskappe kan dus gemeet word aan die uitvoering van hierdie visie en missie. In die missie van die SAPD word dit duidelik afgelei dat die polisie omskep moet word in ’n organisasie wat ’n aanspreeklike diens moet lewer en daartoe verbind is om binne die waardes van ’n demokratiese samelewing op te tree (Suid-Afrikaanse Polisiediens 2019b). Die Diensleweringsverbeteringsprogram (Service Delivery Improvement Programme (SDIP)) is in die SAPD ingestel ten einde organisasieherstrukturering by polisiekantore te implementeer om meer effektief te kan funksioneer en ook om dienslewering te verbeter (Burger 2007:109). Volgens Burger (2013:1) bevat die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) van 2030 (Nasionale Ontwikkelingsplan 2030 2011) verskeie sodanig verreikende aanbevelings dat indien die plan wel geïmplementeer word, dit dramatiese veranderinge in die polisie en ook regdeur die regeringstrukture behoort te bewerkstellig tot voordeel van die gemeenskap wat beter dienslewering sal ontvang. Verder meld Cordner en Scarborough (2010:299) dat die hedendaagse polisiehoofde veronderstel is om gemeenskapsleiers te wees wat die toepassing van die reg verstaan, verseker dat goeie gemeenskapsondersteuning ten opsigte van die polisie bestaan en dat die organisasie se missie nagestreef word. 

Newham (2013:1) stel die volgende voor met betrekking tot professionalisme in die SAPD:

Ons benodig nie meer mense in uniform nie, maar professionele polisiebeamptes wat beter opgelei en gemotiveer is en beter bestuur word. Dit is tyd vir senior polisieleierskap om op grond van ’n deursigtige en mededingende proses aangestel te word. Die praktyk waarvolgens onbekende en ongetoetste mense tot die senior range van die SAPD gelanseer word, het aansienlik bygedra tot die meeste van die polisietekortkominge wat vandag ervaar word.1 

1.1 Opleiding, bevoegdheid en gesindhede van SAPD-lede

Volgens Mabeba (2014:18) is dit duidelik dat SAPD-beamptes swak toegerus is en daarom nie basiese pligte behoorlik kan uitvoer nie. Bailey (2014:9) noem dat ’n gebrek aan opleiding agter polisiebrutaliteit skuil en dat polisiebeamptes op stasievlak nie die korrekte toerusting het nie. Mabeba meld verder dat etlike beamptes nie voertuie kan bestuur of vuurwapens behoorlik kan hanteer of ongeluksverslae en dossiere kan invul nie, en beskryf polisieopleidingsinstansies as niks anders as ’n bespotting nie. Die primêre skrywer is van mening dat polisieopleidingsinstansies se leerplanne wel op standaard is en veronderstel is om polisiebeamptes effektief voor te berei vir behoorlike dienslewering. Die gebrekkige diensleweringskultuur in die SAPD kortwiek egter die behoorlike toepassing van indiensopleiding wat ontvang word. Dit is daarom elke polisiebeampte wat indiensopleiding ontvang se verantwoordelikheid om hierdie nuwe kennis te internaliseer en na beter dienslewering te streef. 

Tydens ’n aanbieding deur ’n afvaardiging van die SAPD aan die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Polisiesake het dit aan die lig gekom dat ’n beduidende aantal SAPD-beamptes nie kan lees of skryf nie (Magubane 2018). Volgens Mabeba dui al hierdie feite op erge onbevoegdheid van polisiebeamptes. In skerp reaksie op die toename van geweld teen vroue en kinders het Siyabonga Jentile van die #NotlnMyNameSA-veldtog hierdie toename toegeskryf aan die onbevoegdheid van die lede van die SAPD, wat deur korrupte polisiebeamptes vererger word (Maromo 2018:4).

In ’n skokkende verslag deur Grainne Perkins van die Sentrum vir Kriminologie ly 10 000 SAPD-lede aan depressie en 27 000 lede aan posttraumatiesestres-versteuring, terwyl 115 lede in 2012 en 2013 selfmoord gepleeg het weens moeilike werksomstandighede (Mashigo 2017:2). Eweneens berig Koyana (2014:4) oor die polisie wat nie deur die gemeenskap vertrou word nie en polisiebeamptes se oneffektiwiteit. Die koerantartikel “Nowhere is safe from crooks, cops” (2014:12) meld ook dat diskresie nie ’n sterk punt onder polisiebeamptes is nie. Bezuidenhout (2014:12) beklemtoon dat daar ’n dringende behoefte bestaan aan die professionalisering van die polisiediens. Koyana (2014:12) meld verder dat polisiëring in Suid-Afrika in ’n krisis verkeer. Baie mense ervaar die polisie as korrup, onbevoeg of onwillig om hul klagtes doeltreffend te hanteer. Hulle word ook soms as brutaal ervaar. Die opspraakwekkendste geval van polisiebrutaliteit en die gebruik van oormatige geweld deur die SAPD die afgelope jare is die sogenaamde Ficksburg-insident waar Andries Tatane in 2011 tydens ’n diensleweringsprotes deur die polisie gedood is. In nog ’n opspraakwekkende voorval in 2013 het toeskouers die taxibestuurder Mido Macia verfilm toe die polisie hom aan die agterdeur van ’n SAPD-voertuig vasgeboei en na ’n polisiekantoor in ’n township naby Daveyton, Ekurhuleni, gesleep het, waarna hy gesterf het. Hierdie voorvalle het internasionale mediadekking gekry en opnuut die aandag gevestig op hoe die SAPD die gebruik van geweld tydens arrestasie toepas. 

Politici en senior SAPD-leiers het die afgelope paar jaar polisielede aangemoedig om te skiet om dood te maak. Die voormalige nasionale polisiekommissaris, Bheki Cele, het byvoorbeeld in reaksie op aanvalle teen die polisie ’n beroep gedoen dat die wet verander moet word sodat die polisie misdadigers kan “skiet om dood te maak” sonder om bekommerd te wees oor “wat daarna gebeur” (Goldstone 2009). Die voormalige adjunkminister van veiligheid en sekuriteit, Susan Shabangu, het die volgende instruksie aan polisielede gerig: “Julle moet die booswigte doodmaak as hulle julle of die gemeenskap bedreig. Julle moet nie bekommerd wees oor die regulasies nie. Dit is my verantwoordelikheid” (“Shoot to kill” order bites back at our populist politicians 2009). Buccus (2017:17) is van mening dat die macho benadering tot polisiëring, aangedryf deur die voormalige minister van polisie, Fikile Mbalula, die kultuur van geweld in die SAPD vererger, met die gevolg dat baie polisielede voel dat hulle geweld straffeloos kan toepas. Die daaglikse sadistiese teistering van gewone burgers deur polisie word toenemend deur die middelklas ervaar. Buccus voer verder aan dat polisiëring ’n moeilike, gevaarlike en baie stresvolle werk is en dat die publiek erkenning moet gee aan daardie polisiebeamptes wat hul pligte met moed en eer uitvoer. Nogtans staan polisiëring in Suid-Afrika volgens Buccus voor ’n afgrond: “Wanneer mense die polisie vrees soos hulle enige misdadiger vrees, is dit regtig ’n gemors.” 

In die artikel “When protectors turn into enemies of the community” (2014:20) word die volgende gesê:

Ons politici bevorder die afgelope paar jaar doelbewus ’n kultuur van brutaliteit deur onder meer die polisie aan te moedig om te skiet om dood te maak. Hulle het ook die polisiediens in ’n polisiemag verander waarin gewone polisiemanne en -vroue gemilitariseer in gesindheid en dade geword het.

Bailey (2014:9) meld verder in ’n onderhoud met Sean Tate, direkteur van die African Policing Civilian Oversight Forum dat daar byvoorbeeld sedert die Marikana-insident in 2012 min verbetering in openbare-orde-polisiëring plaasgevind het. Dit vereis egter ’n gestruktureerde en gefokuste poging en dat die polisiebestuur aan meer toepaslike strategieë moet dink. Nyaka (2014:24) stel voor dat gedissiplineerde lede wat die SAPD se gedragskode en etiekkode navolg, in die polisiediens benodig word. Volgens die artikel “Money alone won’t solve problem” (2014:8) is van die faktore wat betrokke was by die Marikana-tragedie – polisie-onbevoegdheid, swak opleiding en ontoereikende of ontoepaslike skarebeheertoerusting – hoog op die lys. 

1.2 Bestuursprobleme en toesighoudingsfunksies in die SAPD 

Dano (2014:10) is van mening dat die OPOD nie aanspreeklik gehou kan word vir bestuursprobleme en toesighoudingsfunksies van die polisie nie, en stel voor dat polisiebestuur opgeskerp word. Mdletshe (2014:1) meld ook dat die voormalige adjunkpolisieminister, Maggie Sotyu, senior polisiebestuur uitdaag om beter inisiatiewe te ontwikkel wat die optrede van polisiebeamptes in reaksie op gewelddadige protesoptogte kan verbeter. Volgens Langry (2014:3) het die plaaslike polisie ’n swak reputasie met betrekking tot kwaliteit- en vinnige dienslewering.

Met betrekking tot polisiedienslewering noem Phakathi (2014:4) die volgende:

Swak townshipdienste lei tot swak polisiëring. ’n Gebrek aan effektiewe polisiëring lei daartoe dat vigilantegroepe sake in eie hande neem en soms selfs vermeende misdadigers doodmaak. Verder is die moraal by polisiestasies in die townships ook laag en afwesigheid onder beamptes hoog.

Die artikel “SA police under threat” (2014:5) berig dat die polisieleierskorps dringend behoort te fokus op die verbetering van strategiese bestuur en interne aanspreeklikheidskapasiteit wat professionele polisiëring ondersteun. Nombembe (2014:2) berig byvoorbeeld dat die polisie nie telefone beantwoord by drie Khayelitsha-polisiekantore nie. Die kwaliteit van speurwerk is swak en baie sake word nie ondersoek nie; speurders neem nie dossiere hof toe nie, wat daartoe lei dat sake teruggetrek en ook van die hofrolle geskrap word. Germaner (2014:4) meld dat die eertydse minister Nkosinathi Nhleko beloftes gemaak het oor hoe sy departement misdaad gaan bekamp, maar teleurgestel het deur geen konkrete planne te verskaf nie. Rall (2017:1) berig dat slegs twee uit die vier helikopters by die SAPD se lugvaartafdeling in KwaZulu-Natal werk, en swak bestuur binne die polisie is die skuld gegee. Volgens die African News Agency (2018:6) het parlementslede ook uitgevaar teen die polisiebestuurspan en is hulle van mening dat die SAPD-bestuurskorps reggeruk moet word ná die tweede opeenvolgende gekwalifiseerde oudit. Die portefeuljekomitee het ook die bevoegdheid van senior amptenare rakende finansiële verkryging en kontrakbestuur gekritiseer. Volgens Germaner (2014:1) het die provinsiale media-offisier, luitenant-kolonel Dlamini, gesê dat swak dienslewering, onbeskoftheid en arrogante gesindhede onder SAPD-lede onaanvaarbaar is en dat dit die grondwetlike reg van misdaadslagoffers is om enige magsmisbruik en swak dienslewering aan te meld.

1.3 Misdadige elemente en wangedrag in die SAPD

Die artikel “Bribery in a culture of impunity” (2014:12) berig oor klagtes wat deur die korrupsiewaghond Corruption Watch ontvang is teen lede van die SAPD waarin klaers die volgende noem: 

Ondanks die werklike en ernstige risiko van omkopery, blyk dit dat ’n kultuur van straffeloosheid toeneem, en dat Suid-Afrikaners klaarblyklik toenemend gewillig is om omkoopgeld aan te bied en te betaal om beter diens van ’n staatsamptenaar te ontvang. 

Volgens Diale (2014:8) beloop klagtes oor marteling, aanranding, poging tot moord, roof, diefstal, intimidasie, ontvoering en huisbraak wat deur polisiebeamptes gepleeg word, 11 persent van die sake wat by die OPOD aangemeld word. Koyana (2014:4) skryf dat inwoners die polisienoodnommer 10111 verskeie kere skakel en die polisie net nooit opdaag nie.

Volgens Cronje (2014:1) het die destydse polisieminister Nathi Mthethwa die volgende oor die beeld van die SAPD gesê:

Alle regeringsvlakke het ’n verantwoordelikheid om oplossings vir die uitdagings van misdaad te vind. In ’n poging om die SAPD-range en -beeld te verbeter, beoog die polisie om die name van aansoekers in koerante te publiseer om lede van die publiek te help om toekomstige beamptes te keur. 

Watson (2014:6) noem dat Mthetwa van mening is dat spesialisopleiding van polisiebeamptes in skarebeheer die oplossing is. Die Minister is kort hierna vervang en sy vervanging is volgens Tau (2014:6) genoodsaak deur die vrae wat ontstaan het oor polisiebrutaliteit die vorige drie jaar. Volgens Merten (2014:4) wou die voormalige minister van polisie Nkosinathi Nhleko die polisie in ’n diens verander om die vorige vyf jaar se “shoot to kill”-benadering te vervang. Die voormalige minister het gepoog om ’n kultuur van kollektiewe benadering te volg. Volgens hom was dit noodsaaklik om ’n kultuur van spanwerk en kollektiewe denke na te streef om die doelwitte van die NOP (Nasionale Ontwikkelingsplan 2030 2011) te bereik. In hierdie verband het Nhleko gesê dat hy in beheer van beleid was, maar dat implementering van beleid, bestuurs- en bedryfskwessies soos skarebeheer die SAPD se verantwoordelikheid is. Hy het bygevoeg dat die hedendaagse polisiediens homself getransformeer het en dat polisie geen verdraagsaamheid jeens wandade in sy geledere duld nie (Merten, 2014:5).

Die voormalige provinsiale gemeenskapsveiligheidskakelbeampte, Willies Mchunu, beklemtoon dat polisiewandade nie goed vir die beeld van die polisiediens is nie, en dat daar gewaak moet word teen die aanname dat alle polisiebeamptes misdadigers is. Die meerderheid polisielede is toegewyd. Voorts is die staat oorgehaal om skelm polisiebeamptes uit te roei (Memela 2014:8).

Volgens die SAPD se jaarverslag van 2018/2019 (Suid-Afrikaanse Polisiediens 2019a) is 528 polisielede ontslaan as gevolg van kriminele dade wat wissel van hulpverlening met ontsnapping, roof en handel in dwelms, tot afpersing, bedrog, moord, verkragting en diefstal.

In die verslag “Broken Blue Line” deur die Instituut vir Rasseverhoudinge noem Marius Roodt dat die polisie se betrokkenheid by ernstige en geweldsmisdaad een van die sleutelbevindings is. Roodt voer aan dat misdadigers in diens van die SAPD en ’n gebrek aan toesig ’n afname in misdaad onwaarskynlik maak (Wilson 2018:2). Hartley (2014:3) meld in sy artikel dat hoewel die aantal klagtes teen die polisie oor die afgelope twee jaar gestabiliseer het, groot getalle polisielede hulle steeds wangedra en dat daar kommer heers oor die toename in verkragting- en aanrandingklagtes. Meintjies (2014:18) meld dat die polisie aanbevelings wat die OPOD voorstel, ignoreer. ’n Lid van die parlement, Mkhuleko Hlengwa, het uitgevaar teen die SAPD en gesê daar is eindelose chaos in die SAPD, veral wanneer diegene wat in beheer is, medepligtig is aan hulpverlening en bystand met korrupsie. Hy het verwys na die voormalige nasionale polisiekommissaris Riah Phiyega se konflik van belange deur sake met die staat te doen. Hlengwa het voorts genoem dat daar ’n sistematiese ineenstorting in die SAPD is, die organisasie wat veronderstel is om die alfa en die omega van wetstoepassing te wees (Cruywagen 2017:4).

1.4 Politieke inmenging in die SAPD en onreëlmatige aanstellings van senior polisielede

Dodds (2014:6) haal Gareth Newham, die hoof van die Instituut vir Sekerheidstudies se afdeling regering, misdaad en veiligheid, aan en noem dat politieke inmenging by die aanstelling en bevordering van senior polisielede chaos veroorsaak met betrekking tot die vermoë om misdaad strategies te bekamp en dat die aanstelling van bevoegde topbestuurpolisielede die eerste stap behoort te wees om openbare vertroue van die publiek te verkry. Dodds (2014:6) noem ook dat in plaas daarvan om hierdie tipe strategie op nasionale vlak te implementeer, die misdaadintelligensieafdeling wanordelik was. Dit was grootliks te wyte aan die onreëlmatige aanstelling van Richard Mdluli as sy hoof en daaropvolgende pogings om hom te beskerm teen vervolging weens aanklagte van bedrog en korrupsie. Hierdie omstandighede skep dus ’n situasie waar die misdaadintelligensiekomponent ná daardie debakel beduidend agteruitgegaan het.

Die artikel “Money alone won’t solve problem” (2014:8) berig dat politieke inmenging in staatsinstellings ongetwyfeld ’n groot rol in die agteruitgang speel. Behalwe die struwelinge onder die hoofde van die Nasionale Vervolgingsgesag en die SAPD is polisie-intelligensie ingesleep by faksiegevegte in die African National Congress (ANC), tot nadeel van misdaadvoorkoming. Selfs ANC-parlementslede stem hiermee saam – die misdaadintelligensiediens se onvermoë om onder andere die vlaag winkelsentrumrooftogte te voorkom, is uit alle oorde tydens ’n parlementêre debat gekritiseer.

Gareth Newham van die Instituut vir Sekerheidstudies noem dat drie permanente aanstellings en vier waarnemende aanstellings in die laaste dekade in die pos van nasionale polisiekommissaris gedoen is. Newham is van mening die fundamentele probleem is nie druk van die posisie, of omdat daar nie geskikte kandidate beskikbaar is om etiese en ervare leierskap aan die organisasie te gee nie, aangesien daar verskeie ervare en bekwame professionele senior polisiebevelvoerders is wat waarskynlik goeie werk sou verrig. Newham voer aan die rede waarom hierdie mense nie aangestel word nie, is polities van aard, en swak leierskap op die vlak van die nasionale kommissaris beïnvloed dus direk die prestasie van die SAPD in die geheel (Newham 2017:4). Die Instituut vir Sekerheidstudies en Corruption Watch doen insgelyks ’n beroep op die polisie om dringend aandag te gee aan interne kwessies wat die stryd teen misdaad negatief beïnvloed. Dié organisasies is van mening dat die hoë misdaadkoers aangevuur word deur politieke inmenging, wat professionele polisieleierskap en openbare veiligheid ondermyn (African News Agency 2017:6). Volgens Tswanya (2018:1) is Gareth Newham van mening dat slegs ’n volledige hersiening van polisieleierskap die skade van die Zuma-jare ongedaan kan maak, met verwysing na die skade wat die voormalige staatspresident, Jacob Zuma, as gevolg van politieke aanstellings aan die polisieleierskap aangerig het. 

1.5 Verbrokkeling van polisiedienslewering

Artikels 7 tot 39 van die Handves van Regte, soos vervat in hoofstuk 2 van die Grondwet, bevat talle riglyne wat in ag geneem moet word met dienslewering aan diverse gemeenskappe. Uit ons ervaring en gesprekke met huidige en voormalige polisiebeamptes weet ons dat groot getalle middel- en senior bestuurders in die SAPD weens politieke inmenging in die organisasie sedert 1994 bedank en/of skeidingspakkette geneem het. Daardeur het jare se ervare diens van lede vanaf die polisiediens na die private sektor verskuif. Die kundigheid het begin manifesteer in private sekuriteitsmaatskappye wat die onderskeie gemeenskappe teen misdaad beskerm omrede die polisiediens nie in al die veiligheidsbehoeftes van die gemeenskappe kan voorsien nie. Statistiek in die SAPD 2018/2019-Jaarverslag bevestig dat bedankings van lede uit die organisasie ’n beduidende bydrae lewer tot die aantal lede wat uit die diens tree. Bedankings het toegeneem van 2 039 in 2017/2018 tot 2 180 in 2018/2019 (Suid-Afrikaanse Polisiediens 2019). Verskeie spesialiseenhede is ook ontbind en sodoende is noodsaaklike intelligensienetwerke afgeskaal. Die verskeie oorhaastige en soms politieke aanstellings het ’n bestuursbehoefte geskep wat ’n negatiewe invloed op doeltreffende bestuur en, meer spesifiek, op dienslewering aan die onderskeie gemeenskappe het.

Kobe (2014:18) meld in sy artikel “Police need to take Batho Pele principles to heart” dat muurplakkate nie genoeg is nie; omdat die polisie direk met die gemeenskap kontak het, is lede se gedrag kritiek. Batho Pele beteken “mense eerste” en is geskoei op riglyne wat polisiebeamptes in gedagte moet hou in hul omgang met die publiek. Lede se opleiding behoort deurtrek te wees van die Batho Pele-beginsels. Kritzinger (2014:7) meld dat die gehalte van die polisie se diens aan die provinsiale kommissaris gerapporteer gaan word, wat daarop dui dat die gemeenskap nie meer swak diens wil ontvang en aanvaar nie.

In 2017 het Gwangwa (2017:4) berig dat meer as 2 000 voertuie uit die 8 000 voertuie wat aan die Gautengse provinsiale SAPD behoort, stukkend was, wat miljoene Suid-Afrikaners kwesbaar en onbeskermd gelaat het. ’n Voormalige minister van polisie, Fikile Mbalula, laat hom soos volg uit: “Die kliëntediens aan ons mense is skokkend. Batho Pele is net ’n gebeurtenis binne die SAPD; dit is nie iets wat die polisiebestuur waarlik in ag neem nie” (Matlala 2017:2). Meintjies (2014:18) meld dat Suid-Afrika dringend ’n ernstiger poging teen misdaad benodig, en dat die NOP voorsiening maak vir stappe om ’n polisiediens van beter gehalte daar te stel, die toetsing van beamptes se bevoegdheid, beter opleiding vir speurders, en die stigting van nog spesialiseenhede.

1.6 Onbevoegde polisieleierskap as bydraende faktor vir die hoë misdaadsyfer

Newham (2015b:1) is van mening dat sterk leierskap binne die SAPD uiters belangrik is en dat bevoegde en eerlike leierskap in die SAPD deurslaggewend is om die publiek se vertroue te wen. Newham (2015b:2) meld verder dat die aantal polisiebeamptes wat per jaar vermoor word, toegeneem het van 68 in 2013–2014 tot 86 in 2014–2015. Dit is as gevolg van die huidige polisieleierskap se onvermoë om gewapende roof te verminder, wat tot ’n toename in die oorkoepelende moordsyfer bydra. Die artikel “High crime is a great worry” (2015:4) identifiseer swak polisieleierskap as bydraende faktor vir die hoë misdaadsyfer in Suid-Afrika. In hierdie verband gaan ’n debat oor die misdaadstatistiek onvermydelik gepaard met baie kritiek wat teen die polisie gerig word, onder andere of hulle hul mandaat om burgers te beskerm, soos vervat in artikel 205 (3) van die Grondwet, nakom. Die woelinge in die bestuur word weerspieël in die manier waarop gewone polisiebeamptes hul werk doen. Die skokkende misdaadstatistieke van die afgelope dekade dui op die gevolge van die onstabiele leierskap by die SAPD en hoe hierdie situasie deur misdadigers uitgebuit word. Die stryd teen misdaad in Suid-Afrika verg ’n veelfasettige benadering. Bowenal verg dit sterk en beslissende leierskap – nie die tipe wat slaap terwyl Rome brand nie.

Bloem (2015:4) is van mening dat die voormalige polisieminister Nathi Nhleko en die voormalige kommissaris Riah Phiyega onsuksesvol was om effektiewe leierskap in die SAPD te toon en eerder as apologete en nie uitvoerders nie voorgekom het. Hoofstuk 12 van die NOP vervat wat die regering behoort te doen. Die versuim van die regering om hierdie aanbevelings te implementeer stel elke burger van die land bloot aan daaglikse gevaar. Dit is waarom dienslewering deur die SAPD deurlopend bevraagteken word. Mbhele (2015:5) meld in sy artikel dat die polisie se reaksietyd op klagtes in meer as 48% van gevalle onbetroubaar is. Umraw en Pillay (2015:3) berig dat die meerderheid mense wat in KwaZulu-Natal woon, glo dat die polisie lui is en voer dit aan as rede vir die lang tyd wat dit duur voordat die polisie reageer wanneer hulle ontbied word. Met betrekking tot die geloofwaardigheid van die SAPD-leierskap, meld Watson (2015:5) dat die geskorste (nou die voormalige) nasionale polisiekommissaris, generaal Riah Phiyega, nou amptelik ’n verdagte in ’n strafsaak is. Phiyega, Khomotso Phahlane en Hamilton Hlela sluit hulle nou aan by die geledere van voormalige nasionale polisiekommissarisse wat strafregtelik vervolg word vir verskeie wandade. Volgens die voormalige minister van polisie Fikile Mbalula het die SAPD ’n “akute” gebrek aan leierskap vanaf stasievlak opwaarts (Matlala 2017:2). Volgens ’n lid van die parlement, Vusumzi Magwebu, is die tekort aan voertuie hoofsaaklik die gevolg van polisiebestuur wat onbevoeg is op verskillende vlakke, en nie aanspreeklikheid vereis nie. Magwebu het voorts gesê: “Ons moet eerstens die grondbeginsels regstel en goeie organisatoriese bestuur prioritiseer.”

1.7 Die impak van die topswaar SAPD-struktuur op operasionele polisiëring

Merten (2015:2) meld in sy artikel dat omvangryke herstrukturering van die polisie beoog word: die verdeling van afdelings wat onlangs saamgevoeg is; die opsegging van misdaadintelligensie se regstreekse aanspreeklikheid teenoor die nasionale kommissaris; en die vestiging van ’n nuwe bestuursingrypingstruktuur om probleme op provinsiale en stasievlak te hanteer. Die destydse waarnemende nasionale polisiekommissaris luitenant-generaal Khomotso Phahlane het ook bygevoeg dat die huidige struktuur te duur is. Die voorgestelde struktuur is gesetel in die polisie se behoeftes; dit oorkom huidige wanfunksionaliteit en is effektief en doelmatig. Volgens Phahlane sal hierdie plat struktuur die polisie in staat stel om ’n impak te maak – ’n benadering van terugkeer na die basiese beginsels. Hierdie nuwe struktuur behoort gemonitor te word om die impak op dienslewering oor ’n tydperk te evalueer. 

In teenstelling met Phahlane se voorgestelde struktuur is Mamabolo (2017) van mening dat die SAPD sy hele organisasiestruktuur moet hersien. Die grootste uitdaging is dat byna alle bevelvoerders waarnemend optree by nasionale strukture, provinsiale strukture en eenhede regoor die land. Die SAPD-struktuur in sy huidige vorm is opgeblaas, wat baie duplisering van posisies tot gevolg het. In die strewe om doeltreffendheid en effektiwiteit van die SAPD te verbeter is verskeie senior aanstellings in 2018 gedoen, onder andere, die aanstelling van ’n nuwe nasionale hoof van misdaadintelligensie, ’n pos wat die vorige vyf jaar 12 waarnemende afdelingskommissarisse gehad het, asook ’n nuwe nasionale hoof van die Direktoraat vir die Ondersoek na Prioriteitsmisdaad, ’n pos wat ook deur ’n waarnemende afdelingskommissaris beklee is. Volgens Capazorio (2015:2) het die gewese minister van polisie Nathi Nhleko aan parlementslede genoem dat die polisie se begroting 74% bestee aan salarisse en dat die oorblywende bedrag (dus 26%) aan dienslewering bestee word. In Singapoer byvoorbeeld word 59% van die begroting aan salarisse bestee en die oorblywende bedrag (41%) aan dienslewering.

 

2. Navorsingshipoteses

Die navorsingshipoteses van hierdie studie is as volg:

  • Die effektiewe implementering van strategiese bestuur in die SAPD het ’n invloed op optimale dienslewering.
  • Effektiewe leierskap in die SAPD is ’n bepalende faktor vir die sukses van strategiese bestuur ten einde dienslewering te optimaliseer.
  • ’n Geskikte organisasiekultuur in die polisiediens word deur die leierskorps gevorm en in stand gehou ten einde die nastrewing van organisasiedoeltreffendheid en -effektiwiteit te bereik.
  • ’n Geskikte organisasiekultuur is noodsaaklik tydens die implementering van die strategiesebestuursproses in die polisiediens.

 

3. Navorsingsmetodologie

Hierdie artikel is gegrond op navorsing vir die voltooiing van die graad Magister Technologiae (Van der Merwe 2016). ’n Kwalitatiewe benadering is in hierdie navorsing gevolg, aangesien die studie ondersoekend-beskrywend is en ten doel het om strategiese bestuur in die SAPD te evalueer ten einde te bepaal hoe dienslewering geoptimaliseer kan word. Hierdie artikel is verder op ’n nie-empiriese navorsingsontwerp, naamlik ’n literatuurstudie, gebaseer, met spesifieke verwysing na sistematiese oorsig as navorsingsontwerp. Gough, Oliver en Thomas (2012:5) beskryf sistematiese oorsig as ’n vorm van navorsing wat die beskikbare literatuur identifiseer, beskryf en sintetiseer deur gebruik te maak van eksplisiete aanspreeklike metodes. Hierdie studie het van die niewaarskynlike steekproefneming, met spesifieke verwysing na die doelgerigte steekproefneming, gebruik gemaak om die mees inligtingryke gevalle of elemente vir die doel van die studie te betrek. 

Data is verkry uit nasionale gedrukte mediaberiggewing in die vorm van 78 nasionalekoerantartikels wat vanaf 1 Januarie 2014 tot 31 Desember 2014 gepubliseer is. Koerantartikels oor strategiese bestuur, dienslewering in die SAPD, polisiekultuur, professionalisme in die polisie, polisiebestuur, persepsies van die SAPD, polisieleierskap en klagtes teen die polisie het dus as steekproef gedien. Die artikels hou direk verband met die SAPD se strategiese bestuur, leierskap en dienslewering. Boonop is ’n sistematiese oorsig van 135 addisionele nasionalekoerantartikels wat oor strategiese bestuur en dienslewering in die SAPD handel, en wat vanaf 1 Januarie 2015 tot 31 Desember 2018 gepubliseer is, uitgevoer om te bepaal of die data wat verkry is uit nasionalekoerantartikels, van Januarie 2014 tot Desember 2014 gepubliseer, steeds relevant en geldig is. Die resultate van die sistematiese oorsig van koerantartikels wat vanaf 2015 tot 2018 gepubliseer is, stem ooreen met die resultate van die artikels wat in 2014 gepubliseer is en bevestig dus die relevansie, geldigheid en betroubaarheid van die artikels wat in 2014 gepubliseer is wat gedien het as oorspronklike steekproef van die studie waarop hierdie artikel gebaseer is. Die data is verkry vanaf die elektroniese databasis Sabinet (www.sabinet.co.za). Die benadering was om ’n uiteensetting te gee van sleutelwoorde en/of -uitdrukkings wat die inligting wat ingesamel word kon sif, sodat net die relevante inligting ten opsigte van die navorsingshipoteses gebruik kan word.

Bykomend tot die sleutelwoorde en/of -uitdrukkings wat gebruik is om relevante inligting te verkry, is daar eerstens kwantitatiewe inhoudsontleding gedoen om, soos wat Miles, Huberman en Saldaña (s.j.:282) verduidelik, “to see rapidly what one has in a large batch of data; to verify a suspicion or hypothesis; and to keep oneself analytically honest, protecting against bias.” Volgens Flick (2015:164) beskou sommige bronne kwantitatiewe inhoudsanalise as ’n spesifieke metode vir die verkryging van data, terwyl ander bronne dit weer as ’n vermenging of analitiese tegniek en data-insamelingsprosedure beskou. Volgens Flick word kwantitatiewe inhoudsanalise gebruik vir die insameling en klassifisering van inligting, soos met koerantartikels. Kwantitatiewe inhoudsanalise is dus nie toegepas as data-analitiese metode per se in hierdie navorsing nie, alhoewel hierdie metode vroeër toegepas is om die navorser in staat te stel om te bepaal wat die frekwensie van die geïdentifiseerde temas en/of kategorieë was wat vanuit die gedrukte massamedia (koerantartikels) na vore gekom het. 

Tabel 1 hier onder gee ’n uiteensetting van al die vooropgestelde sleutelwoorde en/of -uitdrukkings (kategorieë) wat in die kwantitatiewe inhoudsanalise gebruik is en wat fokus aan die steekproeftrekking en seleksieproses gegee het. 

Tabel 1. Frekwensie van die vooropgestelde sleutelwoorde en/of -uitdrukkings (kategorieë) verkry uit nasionale koerantartikels wat vanaf Januarie 2014 tot Desember 2014 gepubliseer is

Sleutelwoorde/-uitdrukkings

Frekwensie

Persentasie

Polisiekultuur (Police culture)

1 120

26,56%

Polisiedienslewering (Police service delivery)

1 059

25,11%

Polisieprofessionalisme (Police professionalism)

650

15,41%

SAPD/polisiebestuur (SAPS/police management)

633

15,01%

Persepsies van polisie (Perceptions of police)

282

6,69%

SAPD/polisie en dienslewering (SAPS/police and service delivery)

179

4,25%

SAPD/polisieleierskap (SAPS/police leadership)

173

4,10%

Dienslewering en klagtes teen polisie (Service delivery and complaints against police)

71

1,68%

SAPD/polisie en strategiese bestuur (SAPS/police and strategic management)

50

1,19%

 

Tabel 2 hier onder gee ’n uiteensetting van al die vooropgestelde sleutelwoorde en/of -uitdrukkings (kategorieë) verkry uit nasionale koerantartikels wat vanaf Januarie 2015 tot Desember 2018 gepubliseer is.

Tabel 2. Frekwensie van die vooropgestelde sleutelwoorde en/of -uitdrukkings verkry uit nasionale koerantartikels wat vanaf Januarie 2015 tot Desember 2018 gepubliseer is

Sleutelwoorde/-uitdrukkings

Frekwensie

Persentasie

Polisiekultuur (Police culture)

2 431

18,78%

Polisiedienslewering (Police service delivery)

2 351

18,17%

Polisieprofessionalisme (Police professionalism)

1 768

13,66%

SAPD/polisiebestuur (SAPS/police management)

2 263

17,50%

Persepsies van polisie (Perceptions of police)

666

5,14%

SAPD/polisie en dienslewering (SAPS/police and service delivery)

2 351

18,17%

SAPD/polisieleierskap (SAPS/police leadership)

550

4,25%

Dienslewering en klagtes teen polisie (Service delivery and complaints against police)

134

1,03%

SAPD/polisie en strategiese bestuur (SAPS/police and strategic management)

428

3,30%

 

Die aantal koerantartikels wat in 2014 gepubliseer is wat voldoen het aan die insluitingskriteria vir die steekproef, het ’n totaal van 78 artikels ingesluit. Altesame 135 koerantartikels, vanaf 2015 tot 2018 gepubliseer, wat aan die insluitingskriteria voldoen het, is ingesluit. Data is ingesamel totdat ’n versadigingspunt bereik is. Dataversadiging word bereik wanneer die reeds ingesamelde data nie verdere begrip toevoeg of help om teorieë te formuleer nie (O’Leary 2014:356). 

Tematiese analise is toegepas as die primêre metode van data-analise ten einde die data wat tydens die literatuurstudie ingesamel is, te analiseer. Braun en Clarke (2013:78–9) definieer tematiese analise as ’n metode waarvolgens patrone (temas) in data geïdentifiseer, ontleed en oor verslag gedoen kan word, en word beskou as ’n grondliggende metode vir kwalitatiewe analise. Dit organiseer en beskryf ’n datastel in ryk besonderhede. Verder bevestig O’Reilly en Kiyimba (2015:75) dat tematiese analise nuttig gebruik kan word vir dokumente.

Toestemming is van die Universiteit van Suid-Afrika se etiese komitee ontvang om die navorsing te doen.

 

4. Strategiese bestuur in die openbare sektor 

’n Omvattende nasionale en internasionale literatuurstudie met spesifieke verwysing na strategiese bestuur in polisieorganisasies het beperkte resultate opgelewer; daarom fokus hierdie bespreking hoofsaaklik op strategiese bestuur in publieke organisasies wat ook van toepassing is op die SAPD as ’n publieke organisasie. Die beperkte literatuur in hierdie vakgebied, met spesifieke verwysing na polisieorganisasies, beklemtoon dat daar ’n leemte in hierdie verband bestaan en dat die ontginning en verfyning van strategiese bestuur in die SAPD dus ’n vakgebied is wat ruimte vir toenemende navorsing bied.

Lystbaek, Holmgren en Friis (2017:21) verduidelik dat strategie tans oral teenwoordig is. Strategiese bestuur het standaardgereedskap geword waarmee die openbare bestuurder waarde skep en die organisasie vorm (McBain en Smith 2010). Alle organisasies is gemoeid met strategie, maar organisasies funksioneer onder verskillende omstandighede, wat hul begrip van hoe om strategie te beoefen, beïnvloed. Die openbare sektor funksioneer volgens ’n spesifieke stel beginsels, wat soms misgekyk word (Frederiksson en Pallas 2016). Hierdie beginsels kan opgesom word as polities van aard, met weinig outonomie om eie doelwitte te stel en probleme te hanteer, eerder as om ’n geleentheid te benut. Daar is ook die uitdagings van konflikte tussen demokrasie, regsekerheid en doeltreffendheid, die prominente rol van beroepe, die aantal belanghebbendes en die belangrikheid van deursigtigheid, wat die uitdaging behels om hul aktiwiteite volgens geskikte reëls te voltooi om voorspelbaarheid en aanspreeklikheid te verseker (Frederiksson en Pallas 2016:151). Favoreu, Carassus en Maurel (2015:435) is egter van mening dat hoewel daar vir meer as 30 jaar met strategiese bestuur in openbare organisasies geëksperimenteer is, dit steeds ’n aantal vrae en vertwyfeling opper oor die vermoë daarvan om werkverrigting te verbeter. Strategiese bestuur word in die breë beskou as sou dit prestasie bevorder, selfs in openbare organisasies (Pollanen, Abdel-Maksoud, Elbanna en Mahama 2017:725–46).

Genç en Şengül (2015) stem met Favoreu, Carassus en Maurel saam dat daar al vele studies gedoen is om die verhouding tussen strategiese bestuur en werkverrigting in openbare organisasies te ondersoek. Wat die openbare sektor betref, is daar egter steeds onvoldoende getuienis om aan te dui dat strategiese bestuur ’n regstreekse verband met organisatoriese werkverrigting het, en dit is steeds onduidelik of daar enige ander bepalende faktore is wat hierdie sporing kan beïnvloed. 

In teenstelling met Favoreu, Carassus en Maurel asook Genç en Şengül is Joyce (2015) van mening dat strategiese bestuur algemeen beskou word as noodsaaklik vir openbare dienste, en tot beter werkverrigting en beter uitkomste vir die publiek lei. Minnaar (2010) is ook, in ooreenstemming met Joyce, van mening dat die bekendstelling van strategiese en prestasiebestuurstelsels en -prosedures in die openbare sektor internasionale standaardpraktyk geword het, wat dikwels tot ’n omvattende herontwerp van die tradisionele burokratiese wetgewende raamwerk lei. Strategiese bestuur verbind die openbare organisasie met die gemeenskap, en inkorporeer dus die werklike behoeftes van die gemeenskap in die staat se beplanning, terwyl prestasiebestuur die organisasie vir dienslewering gereed maak. Volgens die artikel “Strategic management: The public and private sector” (2017), word organisasies in die openbare sektor deur die grootste uitdagings in dekades in die gesig gestaar. Die druk is op baie organisasies om die missie en praktyke van die organisasie te verander, wat bestaan uit reguleringsliggame, soos ’n wetgewende gesag of ’n raad wat deur staatsamptenare aangestel word. Beperkings kortwiek die buigsaamheid en outonomie, doelwitte is dikwels vaag en bestrede, die leier se gesag word beperk, politieke inmenging en noukeurige ondersoek deur buitestanders kan verwag word terwyl ’n strategie ontwikkel word, algemene verantwoordingspligtigheid word vereis, en verwagtinge oor werkverrigting verskuif voortdurend. 

Die afgelope paar dekades beklemtoon die openbare-administrasie-gemeenskap die belangrikheid van resultaatgeoriënteerde bestuur (Pollitt en Bouckaert 2011), wat gebaseer is op die implisiete aanname dat, indien dienslewering verbeter word, die publiek meer tevrede met algemene owerheidsprestasie sal wees (Ho en Cho 2016:228). Charrier (2004:1) noem dat, ten einde suksesvol in die hedendaagse wetstoepassingsomgewing te wees, polisiebestuurshoofde die weg deur middel van strategiese bestuur moet baan. Strategiese bestuur, wat bekend is as die “institusionele brein” van ’n moderne openbare organisasie, neem stelseldenkebenaderings in ag, terwyl dit menslike emosies wat organisatoriese veranderinge aandryf, verken. Charrier beskryf voorts strategiese bestuur as ’n stelselbestuursbenadering wat aktiewe leiers in die organisasie gebruik om operasionele funksies te ontleed, onbekwaamhede te identifiseer, stelselintegrasie te hersien, en leemtes in bestuurskommunikasie op te spoor wat werkverrigting kniehalter.

Tydens onlangse dekades het strategiese aangeleenthede – tesame met ander privaatsektorbeginsels en -beleide – na openbaresektor-bestuur versprei en die groei van strategiese praktyke in openbaresektor-organisasies aangewakker. Teenswoordig word strategie oor die algemeen as deurslaggewend vir effektiewe en bekwame openbaresektor-dienslewering en suksesvolle leierskap beskou (Lystbaek, Holmgren en Friis 2017:41). Van der Waldt en Du Toit (2009:242) verduidelik dat strategiese bestuur suksesvol in baie openbare instellings gebruik word, mits dit by die unieke konteks van die openbare sektor aangepas word. As gevolg van die belangrikheid van proaktiewe bestuur en beplanning om tred met ’n veranderende omgewing te hou, is strategiese bestuur ’n goeie alternatief vir tradisionele beplanning. In die strategiesebestuur-proses sal vrae gestel word soos: Wat is die basiese doelwitte van die instelling? Wat is die strategie wat bestaan om daardie doelwitte te bereik? Wat is die fundamentele kwessies waarmee die instelling te kampe het? Wat is die instelling se kultuur? Is die organisasie op so ’n wyse georganiseer dat die doelwitte, kwessies en kultuur ondersteun word? 

Net soos Van der Waldt en Du Toit (2009:242) is ook Hansen en Ferlie (2016) van mening dat aangesien strategiese bestuur uit ’n privaatsektorbestuursdoktrine afkomstig is, dit uiteraard aangepas en herinterpreteer moet word as die konteks van openbare organisasies ter sprake is.

Höglund en Svärdsten (2015) vestig die aandag daarop dat strategiese bestuur prominent op die agenda van publieke-administrasie-vakkundiges en -praktisyns verskyn en dit blyk dat dit toenemend relevant in openbare organisasies word. Höglund en Svärdsten beklemtoon egter dat daar ook ’n gebrek aan studies bestaan wat ondersoek instel na hoe openbare organisasies inderwaarheid strategiese bestuur in die praktyk toepas. Anders gestel: Daar is ’n klein maar groeiende navorsingsgebied (Lane en Wallis 2009; Walker, Andrews, Boyne, Meier en O'Toole 2010; Poister 2010; Boyne en Walker 2010; Andrews en Van de Walle 2012; Hansen en Ferlie 2016; Ferlie en Ongaro 2015) wat die afgelope dekade die aandag vestig op die belangrikheid daarvan om strategie en strategiese denke in openbare organisasies te bestudeer. Verskeie van hierdie studies ondersoek die toepassing van strategiese bestuur (Bryson 2004; Drumaux en Goethals 2007; Hansen Rosenberg 2011), maar min ondersoek die wyse waarop strategiese bestuur inderwaarheid in openbare organisasies toegepas word. Daar word aangevoer dat strategiese bestuur toenemend belangrik word om die prestasie van openbare organisasies te vorm (Poister 2010; Andrews en Van de Walle 2012). Ramovha (2009:iii) beskou die noodsaak vir strategiese bestuur as een van die belangrikste vorme van bestuursaktiwiteite in die Suid-Afrikaanse regering. Dit is gevolglik verpligtend vir hoofde van staatsdepartemente om strategiese planne vir hul departemente te ontwikkel.

4.1 Strategiese bestuur en beplanning in die SAPD 

De la Harpe (1987:26) dui die duidelike onderskeid tussen die twee begrippe strategiese bestuur en strategiese beplanning as volg aan:

Strategiese beplanning word gewoonlik by aanneming gesien as ’n aparte dissipline of ’n bestuursfunksie. Dit behels die toewysing van hulpbronne aan aktiwiteite wat bereken word om ’n stel besigheidsdoelwitte te bereik in ’n dinamiese, mededingende omgewing. Strategiese bestuur, daarenteen, beskou strategiese denke as ’n deurdringende aspek van die bestuur van ’n onderneming en beskou strategiese beplanning as ’n instrument waarbinne alle ander beheerstelsels (begroting, inligting, vergoeding en organisasie) geïntegreer kan word.

Hierdie onderskeid tussen die twee begrippe beklemtoon ook die interafhanklikheid van strategiese bestuur en strategiese beplanning. Die twee begrippe kan dus nie as twee afsonderlike, onafhanklike entiteite beskou word nie. Volgens Dessler (2011:64) is die essensie van strategiese beplanning om te bepaal waar die organisasie tans is, waar die organisasie graag wil wees en hoe die organisasie daar gaan kom. Strategiese beplanning maak dus deel uit van die formuleringsfase van die totale strategiesebestuursproses. Cronje (2014:158) beskryf strategiese beplanning as die ontwikkeling van ’n breë, oorkoepelende langtermynstrategie om die organisasie se missie te verwesenlik. Volgens Hitt, Black en Porter (2012:114) is die daarstel van strategiese doelwitte ’n kritieke stap in die strategiesebestuursproses op lang termyn. Cordner en Scarborough (2010:152) meld dat strategiese planne gemoeid is met die missie en primêre doelstellings en doelwitte. Dit identifiseer ’n oorkoepelende strategie vir die uitvoering van hierdie planne. Voorts bied dit ’n blik op die soort organisasie wat die departement graag wil wees en is dit ’n padkaart van die roete wat gevolg moet word.

Volgens Schwella (2004:223) kan daar geredeneer word dat die strategiesebestuursproses die essensie is van strategiese bestuur. Schwella verduidelik dat strategiese bestuur verdeel is in drie breë onderskeidende fases, naamlik, strategieformulering, strategie-implementering en strategie-evaluasie. Strategieformulering sluit die volgende in: die missieverklaring, omgewingsanalise ten opsigte van geleenthede en bedreigings, organisatoriese assessering in terme van sterk en swak punte, asook strategiese ontleding en keuse. Strategie-implementering behels beplanning vir implementering, programimplementering, voldoende menslike hulpbronne vir implementering, insluitend ’n afbakening van verantwoordelikhede, en finansiering vir implementering. Strategie-evaluasie bestaan ​​uit die oorsig van interne en eksterne faktore wat die basis van huidige strategieë is, die meting van organisatoriese prestasie, en regstellende optrede waar nodig.

Dessler (2011:67) meld dat die visieverklaring van ’n organisasie ’n algemene verklaring is van dit wat die organisasie beoog, en in breë trekke aandui wat die organisasie wil wees. Volgens Hitt, Black en Porter (2012:103) verskaf ’n visie dit wat die organisasie op lang termyn wil bereik. Die visie is die kern van die strategiese plan. Die sukses van strategiese bestuur is dus afhanklik van die implementering van strategiese bestuur, effektiewe leierskap, asook ’n effektiewe organisasiekultuur. 

Volgens Charrier (2004:1) dryf suksesvolle polisiebestuurshoofde organisatoriese verandering aan deur middel van strategiese bestuur. Dit is ’n deurlopende proses wat geleenthede soek om operasionele doelmatigheid te versterk deur interne vraagstukke en eksterne invloede te identifiseer wat organisatoriese volhoubaarheid kortwiek. Dit fokus op die bestuur se verantwoordelikheid om ’n kliëntgerigte, hoëprestasie-leerorganisasie te skep en in werking te stel. 

Volgens Burger (2007:97) word die verskeie relevante polisieplanne en uitvoeringsaksies sedert 1994 in vier fases verdeel. Die eerste fase word gesien as die gemeenskapspolisiëringsfase (1994–1996), die tweede fase as die polisiëringsprioriteits- en doelstellingsfase (1996–2000), die derde fase as die strategiesefokusfase (2000–2002) en die vierde fase as die strategiesebeplanningsfase (2002 tot op hede). Hierdie fases illustreer die strategiese denke en die operasionele benaderings se ontwikkeling in die SAPD sedert 1994. Die vierde fase, die strategiesebeplanningsfase, is basies ’n voortsetting van die geskrewe polisieplan in ’n ander formaat en vir langer periodes (Burger 2007:125). Die strategiese planne het as volg op mekaar gevolg: 2000–2002 (Suid-Afrikaanse Polisiediens 2000), 2002–2005 (Suid-Afrikaanse Polisiediens 2002), 2004–2007 (Suid-Afrikaanse Polisiediens 2004), 2005–2010 (Suid-Afrikaanse Polisiediens 2005), 2010–2014 (Suid-Afrikaanse Polisiediens 2010) en die mees onlangse Strategiese Plan 2014–2019 (Suid-Afrikaanse Polisiediens 2014).

In die voorwoord van die SAPD Strategiese Plan (2014–2019) (Suid-Afrikaanse Polisiediens 2014) meld die voormalige minister van polisie Nathi Nhleko dat die filosofie en fokus van die strategiese plan verstewig is in die NOP, die konstitusionele basis en die vier pilare soos voorgeskryf deur die NOP. Die vier pilare wat gemeld word, is:

  • verstewiging van die strafregsplegingstelsel
  • professionalisering van die polisiediens
  • demilitarisering van die polisiediens
  • verstewiging van veiligheid deur ’n geïntegreerde benadering.

Nhleko meld verder dat die volgende vier sektorspesifieke strategieë sal bydra om die vier pilare na te streef:

  • Nasionale Veiligheidstrategie
  • Diensleweringsverbeteringsprogram
  • Ontwikkelingsveiligheidstrategie
  • Nasionale Misdaadvoorkomingstrategie. 

Die NOP wat in 2011 deur die huidige regering voorgelê is, fokus op ingrypende veranderinge vir die toekoms. Volgens hierdie beleidsdokument het ’n nuwe era ook aangebreek vir die SAPD om hom te herposisioneer vir die toekoms. Die doel van die NOP (Nasionale Ontwikkelingsplan 2030 2011:43–44) is om die polisiediens professioneel te maak. Die polisie se gedragskode en professionele kode behoort aan bevordering en dissipline in die diens gekoppel te word. Werwing moet bevoegde en bekwame beroepslui lok. Die polisie moet gedemilitariseer word en bestuur word om ’n professionele burgerlike diens te word.

Ramovha (2009:iii) vestig egter die aandag daarop dat diensleweringsteikens soos in hierdie planne uiteengesit, dikwels nie bereik word nie, ten spyte van voldoening aan die strategiesebestuursraamwerk soos voorgeskryf deur die staatsdiens- en tesourieregulasies. Daarbenewens beklemtoon Burger (2015b:43) ook dat beoordeling van die werkverrigting van die SAPD die bestaan van diepliggende en omvattende gebreke in die werkverrigting van die organisasie bevestig, insluitend swak dissipline, korrupsie, swak “bevelvoering en beheer”, veral op plaaslike vlak, ’n gebrek aan gereelde en deeglike interne inspeksies en, selfs indien dit wel uitgevoer word, ’n onvermoë om vraagstukke effektief te hanteer. Burger (2015b:56) verduidelik verder dat diepgaande probleme wat die doeltreffende en bekwame werkverrigting van die SAPD ondermyn, toegelaat word om voort te duur, ten spyte daarvan dat dit oor minstens die afgelope dekade herhaaldelik deur inspeksies en ander beoordelings geïdentifiseer is. Dit stel polisiebestuur in ’n swak lig.

4.2 Leierskap in polisieorganisasies as faktor in die strategiesebestuursproses

Met die totstandkoming van die “nuwe polisie” in Groot Brittanje en Ierland in die vroeë 19de eeu het openbare toestemming noodsaaklik vir doeltreffende polisiewerk geword, wat daartoe gelei het dat polisieleiers die behoefte aan professionalisme beklemtoon het. Politici, die media en die breër publiek vestig voortdurend die aandag op polisiemislukkings, wat tot ’n oorvloed nuwe wetgewing, ondersoeke en oorsigmeganismes aanleiding gegee het. Namate probleme egter voortdurend te voorskyn kom, bly die grondliggende vraag hoe polisieprofessionalisme in die diens ingebed kan word (Cox en Kirby 2018:550). Die belangrikheid van leierskap in polisiëring word baie bespreek. Leierskap word dikwels beskou as ’n kernveranderlike in organisatoriese en operasionele doeltreffendheid, en daarmee saam openbare vertroue en werknemerwelstand (Samed 2015). Die publiek verwag dat polisieleiers eties, beslissend, en bevoeg met betrekking tot strategiese, kritiese en kreatiewe denke moet wees en die interne en eksterne legitimiteit besit wat nodig is om invloed binne en buite die werksplek uit te oefen (Pearson-Goff en Herrington 2014). Klein (2013:106) verduidelik egter dat diegene met bevoegdheid vir strategiese leierskap nie bloot meer weet nie, hulle weet anders, en waarsku dat daardie leiers nie altyd floreer in die gejaagde frontliniewêreld van die polisie nie. Davis (2018:1) beklemtoon dat die wêreldwye polisieleierskaplandskap beduidende verandering ondergaan. Die uitdagings van strengheid en professionalisering het die druk versnel om polisieorganisasiestrukture en operasionele werkspraktyke te transformeer (Neyroud 2011; Fleming 2014; HMIC 2017; Holdaway 2017). Terselfdertyd blyk die aard van misdaad meer kompleks te wees. 

Ewijk (2012) wys daarop dat die polisie een van die onbegryplikste moderne administrasies is. Daar word van senior polisieleiers verwag om nie slegs regstreekse leierskapsvaardighede te hê ten einde personeelmoraal en -dissipline te handhaaf nie, maar ook strategiesebestuursvaardighede om langtermynveranderinge teweeg te bring en uit te voer. Sodoende word die instelling ontwikkel om die bestaan van die organisasie met betrekking tot die voortdurend veranderende verwagtinge van die samelewing te handhaaf.

Charrier (2004:1) vestig die aandag daarop dat hedendaagse polisiëring in ’n hoogs komplekse struktuur ontwikkel het wat dinamiese leierskapsparadigmas verg, asook ’n organisasie wat by ’n wêreld met ’n vinnige pas kan aanpas; derhalwe word daar van polisieleiers verwag om teoretiese raamwerke te implementeer wat hedendaagse leierskapsmodelle ondersteun, soos leerorganisasies en verligte leierskap. Die kumulatiewe eise wat aan polisieleiers gestel word, is ongeëwenaard. Daar word van polisieleiers oor die wêreld heen verwag om hul leierskap te verstaan en te ontwikkel om hul personeel effektief te ondersteun in ’n omgewing van toenemende eise asook ekonomiese en organisatoriese onsekerheid. Teen hierdie agtergrond word ’n oorafhanklikheid van tradisionele benaderings tot polisieleierskap derhalwe toenemend as verouderd beskou (Caless en Tong 2015; Van Dijk, Hoogewoning en Punch 2015; Herrington en Colvin 2016). 

Tradisionele werkspraktyke in die polisie en die nakoming van die kwasimilitaristiese rangstruktuur bots met die beginsels van gedeelde leierskap, naamlik kollektiwiteit, samewerking en deelname (Craig, Marnoch en Topping 2010). Die hiërargie verteenwoordig ’n formele organiseringsmeganisme, versterk deur wetgewing, om leierskapgesag met betrekking tot verantwoordelikheid, aanspreeklikheid en besluitneming volgens rang te versprei. Hiërargiese leierskapspraktyke word beskou as sou dit samewerking, vernuwing en uitdaging onderdruk (Andersson and Tengblad 2009). Ondanks hierdie pogings bly die rangstruktuur en kwasimilitaristiese leierskapstyl grotendeels ongeskonde (Silvestri 2011). Silvestri verduidelik voorts dat polisieleierskap in ’n ranggebaseerde kultuur uitgevoer word, wat konvensies van “ken jou plek” en “rang weet die beste” konstrueer en rekonstrueer. Die konformiteit van junior beamptes word genormaliseer as ’n demonstrasie van doeltreffende leierskap, terwyl andersdenkende junior beamptes as problematies en gereguleer beskou word (Collinson 2012). Crevani, Lindgren en Packendorff (2010) voer aan dat senior polisieleiers geposisioneer word as kousale veranderingsagente en inisieerders van aksie, terwyl junior beamptes as passiewe ontvangers beskou word. Die polisieleier blyk bestem te wees om te word wat Grint (2005) kategoriseer as ’n “katwagter”: ’n persoon wat ’n onmoontlike taak het om volgelinge te lei met weinig afhanklikheid van of lojaliteit jeens die rang en die hoë vlakke van diskresie wat in praktiese polisiëring vereis word.

Daar is weinig getuienis van die beste manier om polisiebeamptes vir senior uitvoerende rolle voor te berei. Dit is ewe veel die geval buite as binne polisiëring (Crawford en Kelder 2018; Day, Fleenor, Atwater, Sturm en McKee 2014; Pearson-Goff en Herrington 2014). Herrington en Schafer (2019:243) is van mening dat operasionele geloofwaardigheid ’n uitdaging in polisieleierskapontwikkeling bly. Anders gestel, verduidelik Grint, Holt en Neyroud (2017), is professionele geloofwaardigheid die kernmaatstaf waarmee ondergeskiktes leiers beoordeel. Herrington en Schafer (2019:255) stel dus voor dat die polisiëringsberoep meer gesofistikeerd moet wees in sy begrip van leierskap, wat die doel daarvan is, hoe dit die beste ontwikkel word, en wie in die beste posisie is om dit uit te voer. Hierdie skrywers beveel voorts ’n belegging in navorsing en ondersoek aan om die vaardighede en gereedskap te verstaan wat benodig word om effektiewe polisieleiers daar te stel, eerder as om staat te maak op dit wat organisasiekultuur graag in leiers wil sien. Hulle stel verder voor dat meganismes geskep behoort te word om die ontwikkeling en groei van daardie leierskapsvaardighede en -gereedskap in die werksmag te ondersteun.

Integriteitskendings binne organisasies word toenemend ’n kommer vir polisieagentskappe wêreldwyd (Tasdoven en Kaya 2014:529–41). Mayer, Kuenzi en Greenbaum (2010) het die verwantskap tussen etiese leierskap en die wandade van volgelinge ondersoek. Hulle het bevind dat etiese leierskap werknemerwangedrag ontmoedig. Hulle verduidelik dat wanneer etiese leiers ’n etiese omgewing skep, werknemers wat in hierdie tipe klimaat werk, minder geneig is om morele standaarde te skend. Tasdoven en Kaya (2014:529–41) stel as ’n praktiese implikasie voor dat polisieagentskappe óf leiers met goeie karakter moet aanstel, óf etiese leiers moet ontwikkel. Etiese standaarde moet gehandhaaf word wanneer ’n individu in ’n leierskapsposisie aangestel word. Boonop moet leiers opgelei word om etiese eienskappe te verbeter. ’n Leier behoort ’n rolmodel vir etiese gedrag en ontvanklik vir kommunikasie oor etiese kwessies te wees, moet streng optree teen skendings van integriteit, en die implementering van etiese reëls ferm afdwing. Ortmeier en Davis (2012:496) is egter van mening dat, ongeag die rang, polisiebeamptes dapper en selfgedrewe leierskapsagente moet wees wat eties dink en optree om beheer te inisieer, andere te inspireer, en misdaad en wanorde te hanteer.

Hoewel daar algemeen aanvaar word dat openbare leierskap saak maak, debatteer vakkundiges steeds oor hoeveel en in watter opsigte dit saak maak, gegewe die sterk strukturele beperkings wat die openbare sektor kenmerk (Rainey 2009; Wright en Pandey 2010). Volgens Masal en Vogel (2016:225) beïnvloed leierskap wel die rol van leierskap as ’n bemiddelaar tussen die meting van werkverrigting en werkverwante gesindhede, en is dit ’n belangrike fasiliterende of inhiberende faktor in prestasiebestuur in die polisiëringsektor. Progressie deur die range bied ’n geleentheid om die “besigheid” (d.i. polisieberoepskennis) intiem te leer ken. Dit verg egter veel meer om ’n polisieorganisasie te lei as om ’n tegnies bedrewe en ervare polisiebeampte te wees. Leiers vereis hoë vlakke van krities denke, strategiese insig, kommunikasie en politieke vernuf (Australian Public Service Commission s.j.; Herrington 2015). Hierdie vaardighede word dalk nie ten beste in die daaglikse werksaamhede van polisiëring gekoester en ontwikkel nie (Parsons, Kautt en Coupe 2011). Roberts, Herrington, Jones, White en Day (2016:25) vestig egter die aandag daarop dat leiers slegs een komponent van die toekomstige leierskapuitdaging vir polisieorganisasies is, en dat die ontwikkeling van ’n kultuur van leierskap – dit wil sê, ’n kultuur wat in staat is om te deel in die generering van idees en oplossings – ook belangrik is. Namate die polisiëringsomgewing meer kompleks word, kry leiers toenemend te make met omstandighede waarvan hulle geen ervaring het nie. 

Newham (2015a:53) wys daarop dat sedert 2012 amptelike staatsbeleidsdokumente toenemend op polisieleierskap in Suid-Afrika fokus. Die NOP (National Planning Commission 2012:393) verwys na ’n groot bestuurskrisis en sluit aanbevelings in wat daarop gerig is om die gehalte en bevoegdhede van senior polisiebestuurders te verbeter. Dit identifiseer goeie leierskap wat die kern uitmaak van dit wat nodig is om die talle uitdagings waarmee die SAPD te kampe het, te hanteer. Die konsep-Witskrif oor Polisie voer aan dat Suid-Afrika geregtig is op ’n polisiediens wat navolgenswaardige leierskap en bestuur weerspieël. Dit verwys voorts na die belangrikheid van etiese leierskap en hoe polisieleierskap en -bestuur ’n duidelike normatiewe standaard van die hoogste gehalte moet verseker. As leiers van ’n polisiediens in ’n demokrasie openbare vertroue en legitimiteit moet verseker, is dit belangrik dat hulle ’n hoë vlak van integriteit vertoon (Newham 2015a:40). Ten einde beskou te word as ’n Suid-Afrikaanse polisieleier wat integriteit het, moet hy of sy optree in ooreenstemming met die SAPD se gedragskode, wat onder meer bepaal dat SAPD-beamptes onpartydig, hoflik, eerlik, eerbiedig, deursigtig en op ’n verantwoordbare manier moet optree (Suid-Afrikaanse Polisiediens 2019c). Burger (2015a) voer aan dat in teenstelling met ander senior aanstellings, onvoldoende minimum objektiewe kriteria bestaan om die president te lei by die aanstelling van die nasionale kommissaris van die SAPD. Die gevolg is dat aanstellings in die pos van nasionale kommissaris van die SAPD tydens die postapartheid era oorwegend gekompromitteerde individue was wat nie tersaaklike polisiëringskwalifikasies of -ervaring het nie (Newham 2015a:41). Newham is verder van mening dat senior aanstellings in die SAPD gemaak word wat nie met die vaardighede en vermoëns van die aangesteldes verband hou nie. Hoewel daar duidelike kriteria en prosedures in die SAPD bestaan om senior aanstellings te doen, is die nasionale kommissaris regtens by magte om hierdie prosedures te omseil. Hierdie gesag word egter gereeld deur nasionale kommissarisse van die SAPD misbruik om mense in senior posisies aan te stel wat nie oor die nodige vaardighede, ervaring of integriteit beskik nie. Dit is ’n probleem wat reeds jare lank deur die parlementêre polisieportefeulje geopper word, met ’n voormalige voorsitter wat sodanige praktyke as verkeerd, onregverdig en ontoelaatbaar beskryf het (Chikunga 2012:41).

Volgens Newham (2015a:43) het hierdie reekskrisis van hoofbestuur, soos deur die NOP beskryf, begin om sy tol te eis wat die doeltreffendheid en openbare geloofwaardigheid van die SAPD betref. Newham voer verder aan dat daar baie goedgedokumenteerde polisietekortkominge is wat regstreeks verband hou met SAPD-leierskap (Nasionale Ontwikkelingsplan 2030 2011:393). Die NOP verskaf ’n aantal spesifieke aanbevelings oor hoe om te werk te gaan om die leierskap van die SAPD te verbeter om die organisasie meer professioneel te maak (Nasionale Ontwikkelingsplan 2030 2011:389–93). Hierdie aanbevelings sluit onder andere die volgende in: Die nasionale kommissaris en adjunkte behoort deur die president aangestel te word ná aanbevelings deur ’n keuringspaneel wat kandidate kies en onderhoude met hulle voer aan die hand van objektiewe kriteria. Dit moet volg op ’n deursigtige en mededingende werwingsproses. Voorts moet ’n bevoegdheidsassessering van alle beamptes onderneem word en ’n tweestroomstelsel ontwikkel word om beamptes en rekrute (onderoffisier- en offisierstroom) te skep wat as beroepslui opgelei sal word. Geen konkrete stappe is egter gedoen om die onderskeie aanbevelings in werking te stel nie. Newham (2015a:46) voer aan dat indien hierdie aanbevelings in werking gestel was net nadat die NOP in September 2012 deur die kabinet aanvaar is, vordering waarskynlik gemaak sou gewees het om die SAPD-leierskap te verbeter. Newham is verder van mening dat eerlike en bevoegde senior leierskap nie noodwendig die vermindering van misdaad en die uitwissing van polisiewangedrag kan waarborg nie, maar sodanige leierskap is ’n voorvereiste vir die verbetering van die organisasie. Newham verduidelik dat die SAPD gelukkig oor hoogs ervare en eerlike polisiebestuurders op alle vlakke beskik. Hierdie mans en vroue kan ’n stewige grondslag bied vir die professionalisering van die SAPD, in ooreenstemming met die visie van die NOP. Polisieaanstellings moet gedepolitiseer word sodat slegs die beste en eerlikste personeel in staat is om die toppunt in die organisasie te bereik.

4.3 Polisieorganisasiekultuur as bousteen van strategiese bestuur

Arnold (2005:625) beskryf organisasiekultuur as “die eiesoortige norme, oortuigings, beginsels en maniere van optree wat kombineer om elke organisasie sy unieke karakter te gee”. Daar is ’n algemene konsensus dat organisasiekultuur te doen het met individue se gedeelde norme, waardes, betekenisse, oortuigings en beginsels wat binne die organisasie gehou word (Martins en Coetzee 2007; Robbins, Odendaal en Roodt 2007; Schein 2010; Taormina 2009). 

Die woord polisiekultuur word konvensioneel gebruik om ’n reeks statiese temas te beskryf, waarvan die sentrale leerstelling is dat polisiedienste in liberale demokrasieë stereotipies gekenmerk word deur ’n groot gaping tussen die formele reëls wat beampteprosedure rig en die informele reëls wat werklike beamptepraktyk rig (Charman en Corcoran 2015:485). Die missie wat in die polisiekultuur na vore kom, is slegs op misdaadbestryding en die begeerte tot aksie en opgewondenheid gerig, veral die verheerliking van geweld of gevaar (Loftus 2012; Skolnick en Fyfe 1993; Crank 1998; Reiner 2000). Volgens Loftus (2012), McLaughlin (2007) en Reiner (2000) omvat polisiekultuur ’n “ons teenoor hulle”-verdeling van die sosiale wêreld, met sy groep-kollega-solidariteit en sosiale isolasie aan die een kant, en rassistiese/seksistiese, skadelike komponente aan die ander kant. Polisiebeamptes is na bewering voortdurend agterdogtig, veral wat die publiek, reg en regsprosedures betref. Hulle is konserwatief ten opsigte van politiek en moraliteit, en word boonop gereeld gekenmerk deur sinisme en pessimisme van die een of ander vorm. 

Operasionele polisiefunksies omsluit na bewering ’n aantal eienskappe, insluitend die konstante druk om resultate te bereik, ’n hoë mate van de facto-diskresie, gevaar gekombineer met verveling, statusfrustrasie en om met die donker kant van die samelewing te werk. Hierdie eienskappe genereer op hul beurt kulturele eienskappe: diepgesetelde solidariteit en lojaliteit, sosiale isolasie en ’n “ons-teen-hulle”-gesindheid, ’n kragtige verbintenis daartoe om misdaad te beveg, morele sinisme, machismo, outoritêre konserwatisme en rassevooroordeel (Cockcroft 2012; Loftus 2010; Reiner 2017). Demirkol en Nalla (2019:693) beskou polisiekultuur, hoewel relatief ten opsigte van beroepskulture in die meeste openbare- en privaatsektororganisasies, as uniek, gegewe die aard van hul werkstake en doelwitte. Polisiebeamptes word gereeld beskryf as gemoeid met die bewaring van egoïstiese groepsedes en selfbeskerming, wat daartoe lei dat hul gedrag dikwels deur buitestanders as vyandig, behoedsaam en selfs arrogant waargeneem word. Polisiekultuur word dus gereeld voorgestel as sou dit ’n nadelige invloed op die gesindheid van beamptes hê (Charman en Corcoran 2015:485). Konvensionele temas bly van toepassing op die teenswoordige, wat dui op voorspelbare weergawes van polisiekultuur wat voortgaan om die status quo aan te moedig (Conway 2010; Loftus 2012; Conway en Walsh 2011). Volgens Constantinou (2016) is gesindhede en waardes ineengevleg en namate nuwelinge die polisiëringsarena betree, word neergelegde waardes en praktyke deur senior kollegas aan hulle oorgedra. Loftus (2010:2) is van mening dat polisiekultuur aansienlike invloed uitoefen oor die manier waarop beamptes die publiek beskou en met hulle in interaksie tree, en hierdie invloed is dikwels negatief. Hough, May, Hales en Belur (2018:541) verduidelik dat polisiebesluitneming dikwels etiese oorwegings behels, hetsy eksplisiet of implisiet. Polisiëring was van altyd af kwesbaar vir korrupsie, onetiese gedrag en die fokus van openbare ondersoek wanneer dinge verkeerd loop.

Hoewel dit waar is dat sommige akademici skynbaar suksesvolle kultuurveranderingsprogramme in polisiëringsorganisasies waarneem (Sklansky 2006), is daar onlangs net soveel bevestiging dat kultuurverandering bloot geïgnoreer, weerstaan, ondermyn of gekoöpteer kan word. Konvensionele temas bly dus oënskynlik van toepassing op die hede, wat daarop dui dat voorspelbare weergawes van polisiekultuur steeds die status quo aanmoedig (Loftus 2012; Conway en Walsh 2011). Volgens Mastrofski (2015) voer senior polisiehoofde dikwels aan dat polisiekultuur in hul eie afdelings moet verander. Die beroepskultuur is so sterk in polisiëring dat daar binne die struktuur van opleiding en onderrig van hoëronderwysprogramme daaroor besin behoort te word (Cox en Kirby 2018:560).

Hoewel daar aansienlike variasie in beamptes se gesindhede onder polisieagentskappe bestaan (Ingram, Terrill en Paoline 2018), is daar segmente van beamptes wat burgerlikes wantrou en ’n sterk “ons-teen-hulle”- sosiale identifisering het, ’n aggressiewe polisiëringstyl verkies, en glo dat prosessuele reëls ’n gebrek aan morele geldigheid toon (Skolnick 2011). Hierdie gesindhede beïnvloed op hul beurt beamptes se benadering tot polisiëring en hul gedrag teenoor burgerlikes (Terrill en Paoline 2015). Die siniese en outoritêre gesindhede wat onder baie polisiebeamptes bestaan, is meganismes om die spanning wat hulle in hul beroeps- en organisasieomgewings ervaar, te hanteer, soos burgerlike gebrek aan respek as ’n beduidende bron van spanning (Skolnick 2011). Beamptes ervaar dikwels ’n gebrek aan respek van burgerlikes – ook bekend as polisieminagting of “contempt of cop” (Miller 2004). Baie van die gesindhede wat in vroeë studies geïdentifiseer is, veral wantroue jeens burgerlikes en steun vir aggressiewe polisiëring, help om beamptes se koërsiewe gedrag en wreedheid te verklaar (Terrill en Paoline 2015). Akademici wat polisiekultuur bestudeer, beklemtoon deurgaans dat burgerlikes se gedrag ’n kumulatiewe en veralgemenende uitwerking op beamptes het, weens die spanning wat dit veroorsaak (Bishopp, Piquero, Worrall en Piquero 2018; Paoline en Gau 2018). Ter ondersteuning van hierdie teoretiese argument het een onlangse opname bevind dat die meerderheid beamptes aangedui het dat hulle meer gevoelloos teenoor mense geword het sedert hulle hierdie tipe werk doen, en dat daardie beamptes wat onlangs negatiewe konfrontasies met burgerlikes ervaar het, meer geneig was om hierdie siening te opper (Morin, Parker, Stepler en Mercer 2017). Pickett en Nix (2019:540) voer aan dat beamptes op grond van hul vorige persoonlike en regstreekse ervarings met burgerlikes globale persepsies vorm van die mate waarin burgerlikes prosessuele geregtigheid met polisie gebruik. Prosessueel beskou, behoort regverdige samewerking op sy beurt beamptes se ondersteuning van gesindhede wat deur die polisiekultuur voorgeskryf word, te beïnvloed. Volgens Ingram e.a. (2018) is een van die opvallendste dimensies van polisiekultuur sinisme jeens burgerlikes.

Hoewel polisiekultuur steeds een van die konsepte op die gebied van polisiestudies is wat die algemeenste gebruik word (Brough, Chataway en Biggs 2016; Cordner 2017), is dit terselfdertyd ook een van die mees betwiste en gekritiseerde konsepte. Eerstens word die oorspronklike hipotese dat kultuur in polisieorganisasies homogeen en stabiel is, uitgedaag deur meer onlangse navorsing wat beduidende variasie in en tussen polisieafdelings en -eenhede gevind het (Cordner 2017; Ingram e.a. 2018). Polisiekultuur se fokus op kulturele eienskappe met ’n dikwels negatiewe konnotasie verdien egter kritiek (Brough e.a. 2016; Terpstra en Schaap 2013). Hierdie eensydige siening ignoreer gewenste eienskappe wat ook in werklike polisiëring aangetref word, soos diensoriëntering (Paesen, Maesschalck en Loyens 2019:815). Conlon (2004:9) meld egter: “the day the new recruit walks through the door of the police academy, he leaves society behind to enter a profession that does more than give him a job, it defines who he is”. Volgens Campeau (2015) beeld kritiek op polisiegedrag oor die algemeen polisiekultuur as openlik manlik, polities konserwatief, gemeenskaplik geïsoleer, sinies en aksiegeoriënteerd uit, en word dit gekenmerk deur uiterste lojaliteit onder beamptes. Kop en Euwema (2001) verwys na sodanige aspekte van polisiekultuur as die John Wayne-sindroom (die macho polisiebeampte). Wat ook al die oorsaak, beroepskultuur blyk veerkragtig te wees met betrekking tot meganismes wat poog om dit te verwyder (Graef 2012). Kommentators besef toenemend dat polisiekultuur dinamies en divers is (Cockcroft 2015). Dit bevestig Silver, Roche, Bilach en Ryon (2017:1273) se mening dat navorsing oor polisiekultuur meer aandag vereis.

Volgens die NOP het die SAPD sedert 2000 toenemend gemilitariseer en gepolitiseer geword (Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, Marikana Kommissie van Ondersoek 2015:379). Bes moontlik het hierdie dinamika die organisasiekultuur van die SAPD beïnvloed, ’n besorgdheid wat die NOP erken. Die NOP beveel derhalwe aan dat die organisasiekultuur en subkulture van die polisie beoordeel behoort te word om die gevolge van militarisering, demilitarisering en die opeenvolgende krisisse van topbestuur te assesseer (Nasionale Ontwikkelingsplan 2030 2011:393). Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie beveel verder aan dat ’n oplossing dringend gevind moet word om die kultuur van die SAPD te verander. Hierdie dringende prioriteit behoort heel bo te begin. Die NOP voer verder aan dat daar kwalik van ander senior beamptes en laer range van die SAPD verwag kan word om in te sien waarom die SAPD op ’n niepolitiese manier behoort op te tree en dienooreenkomstig te handel as die voorbeeld wat hul mees senior leiers stel, presies die teenoorgestelde is (Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, Marikana Kommissie van Ondersoek 2015:379). Cox en Kirby (2018:557) het tot die gevolgtrekking gekom dat polisieberoepskultuur ’n negatiewe invloed op dienslewering het, en het konsekwent uitgebreide opleiding (oor kontinente en tyd heen) beklemtoon as ’n manier om hierdie invloed te verminder en polisieprofessionalisme te verbeter.

 

5. Aanbieding van die navorsingsbevindings

Verskeie temas en subtemas is vanuit die data-analise geïdentifiseer. Hierdie temas en subtemas word hier onder as navorsingsbevindinge uitgelig. Die temas wat na vore gekom het, is: Tema 1 – Dienslewering, Tema 2 – Leierskap, Subtema 1 – Opleiding en gesindhede, en Subtema 2 – Kultuur. Dienslewering word as hooftema in hierdie navorsing gehanteer.

5.1 Tema 1: Dienslewering in die SAPD

Die uitdagings ten opsigte van dienslewering deur die SAPD wat na vore gekom het, is opsommend soos volg:

  • SAPD-lede word swak toegerus om hul dienste effektief te verrig. Sommige lede is onbevoeg om voertuie te bestuur en kan nie vuurwapens behoorlik hanteer nie.
  • Amptelike vorms word onvolledig ingevul.
  • Lede van die publiek wat klagtes aanmeld, word swak behandel, strafsake word nie behoorlik ondersoek nie en dossiere raak weg.
  • Ondersoek van klagtes is swak en stadig en lede daag soms nooit by klaers op nie. Gemeenskappe word afgeskeep en word nie voldoende beskerm nie. In sekere areas is lede afwesig en bestaan geen dienslewering nie.
  • Persone in polisieaanhouding sterf en wangedrag en brutaliteit deur polisielede neem toe. Strafsake teen lede neem ook toe.

5.2 Tema 2: Leierskap in die SAPD as faktor in die strategiesebestuursproses

Die uitdagings wat na vore gekom het ten opsigte van leierskap as bepalende faktor in die strategiese bestuursproses is opsommend soos volg:

  • Verskeie senior bestuurders is onbevoeg, met min tot geen kundigheid, asook swak leierskapsvaardighede.
  • Bestuurders toon min tot geen motivering, kommunikasie tussen bestuurders en gemeenskappe is swak en soms afwesig.
  • Daar word swak strategiese en/of geen effektiewe strategiese planne uitgevoer nie.
  • Verskeie senior bestuurders kom nie die amptelike gedrags- en etiese kodes na nie en baie lede is in die algemeen ongedissiplineerd.
  • Die totale bestuur van die SAPD moet opgeskerp word.
  • Interne aanspreeklikheid van die SAPD-leierskap is afwesig.
  • Senior lede misbruik hul magsposisies met betrekking tot ondergeskikte lede.
  • Daar is onbehoorlike politieke inmenging met senior SAPD-aanstellings en funksionering van SAPD.

5.3 Subtema 1: Opleiding en gesindhede van SAPD-lede

Die uitdagings ten opsigte van die opleiding en gesindhede van SAPD-personeel wat na vore gekom het, is opsommend soos volg:

  • Die professionalisering van SAPD-lede benodig aandag.
  • Beter opleiding is nodig om die huidige swak diens van die SAPD te verbeter.
  • Werwing en keuring van SAPD-lede moet doeltreffend geskied om geskikte kandidate in diens te neem.
  • Lede benodig opleiding ten opsigte van die uitoefening van diskresie.
  • Sommige lede tree te militaristies op in terme van gesindhede en optrede jeens gemeenskappe.
  • Daar bestaan ’n behoefte aan opleiding van SAPD-lede in openbare-orde-polisiëring.
  • SAPD-lede se moraal is laag en afwesigheid van lede gedurende amptelike werksure is hoog.
  • SAPD-lede benodig opleiding om gemeenskappe ten opsigte van sensitiewe sake by te staan.

5.4 Subtema 2: Organisasiekultuur in die SAPD as bousteen van strategiese bestuur

Die uitdagings wat ten opsigte van organisasiekultuur as bousteen van strategiese bestuur in die SAPD na vore gekom het, is opsommend soos volg:

  • ’n Diensleweringskultuur in die SAPD is oor die algemeen afwesig.
  • Gemeenskappe het ’n behoefte aan behoorlike dienslewering deur die SAPD.
  • Die SAPD het ’n swak beeld en lede word oor die algemeen beskou as korrup, onbevoeg en ongedissiplineerd.
  • ’n Kultuur van spanwerk tussen SAPD-lede is afwesig.
  • ’n Kultuur van brutaliteit is aanwesig in die SAPD.

 

6. Aanbevelings

Aanbevelings word uitgelig ten opsigte van elke navorsingsbevinding. Uiteindelik behoort daar ’n holistiese benadering te wees waar alle temas geïntegreer word ten einde dienslewering in die SAPD te optimaliseer. 

6.1 Aanbevelings ten opsigte van dienslewering in die SAPD 

Die SAPD behoort alle beskikbare hulpbronne op die kernfunksie van die organisasie te fokus sodat daardie funksie doeltreffend en doelmatig uitgevoer kan word. Alle polisiebeamptes behoort die beginsel van effektiewe dienslewering te verstaan sodat individuele gedrag verander kan word om diens wat hulle aan gemeenskap lewer te verbeter. Dienste behoort gelewer te word wat vir alle gemeenskappe aanvaarbaar is. Operasionele planne behoort dus vir betroubare dienslewering voorsiening te maak. 

Demilitarisering van die polisiediens behoort geoptimaliseer te word. Daar moet in gedagte gehou word dat die doel van demilitarisering is om ’n professionele diens aan die gemeenskap te lewer. Dit kan ook bydra om die negatiewe persepsies oor sommige SAPD-lede te verander. Die beeld van die deursneepolisiebeampte moet verander word na ’n positiewe beeld wat die polisiebeampte uitbeeld as ’n vriend, beskermer, vertroueling en probleemoplosser vir die gemeenskap aan wie ’n direkte diens gelewer word. Om effektief te wees in konsultasie met die gemeenskap behoort daar afwenteling te wees van besluitnemingsbevoegdhede om voorsiening te maak vir plaaslike aanpasbaarheid in die polisieorganisasie. Dit vereis aan die een kant dat polisiebeamptes op operasionele vlak (polisiebeamptes wat direk ’n diens aan gemeenskappe lewer) bemagtig word, en aan die ander kant dat die gemeenskap ook gewillig behoort te wees en aangemoedig moet word om hulle verantwoordelikhede en verpligtinge ten opsigte van interaksie met die polisiediens na te kom. 

Die implementering van strategie is hoofsaaklik ’n operasionele proses en is dus nie so sensitief vir die SAPD nie, omdat implementering nie onderhewig is aan dieselfde mate van openbare kontekstuele invloede as die ander fases van strategiese bestuur nie. Alhoewel hierdie fase juis die werklike operasionalisering is van strategiese planne en waar die kontak met die gemeenskap realiseer, is dit juis ook tydens hierdie fase weens ’n gebrek aan behoorlike bestuur dat strategiese planne en behoorlike dienslewering aan gemeenskappe nie realiseer nie. Die interne beleid van die polisiediens in terme van hulpbrontoewysing behoort ook aangepas te word om die gemeenskapbehoeftes meer effektief te hanteer.

Vir die SAPD is polisiebeamptes die waardevolste bate. Interne opleiding van polisiebeamptes behoort dus so gerig te wees dat dit kennis, vaardighede en houdings verbeter om dienslewering en gemeenskappe se tevredenheid met polisiedienslewering te versterk. Die ondersteuning van gemeenskappe sal daartoe lei dat die SAPD selfvertroue kry en professionalisme begin uitstraal, wat weer die vertroue van die gemeenskappe sal verhoog, in so ’n mate dat die gemeenskappe se samewerking geëis kan word in plaas van om, soos dikwels in die verlede, daarvoor te pleit. Dit kan verder tot gevolg hê dat ’n mensekultuur gevestig word en dat ’n klimaat geskep word waarin ontwikkeling en herkonstruksie werklik kan realiseer. Gemeenskapspolisiëring geniet wetlike erkenning kragtens die Suid-Afrikaanse Polisiedienswet 68 van 1995 (Republiek van Suid-Afrika 1995). Gemeenskapspolisiëring is gegrond op die beginsel van ’n werksverhouding tussen die polisie en die plaaslike gemeenskappe. Hierdie beginsel verhoog vertroue en verleen legitimiteit, aangesien die gemeenskap ’n beter begrip het van die daaglikse aktiwiteite waarmee polisiebeamptes gekonfronteer word. Die polisiediens behoort dan weer die gemeenskap wat gedien word se probleme en behoeftes met empatie en deernis te verstaan. Om ’n sukses hiervan te maak, behoort die polisiediens met die gemeenskap en belanghebbende rolspelers te skakel en selfpolisiëring deur die gemeenskap aan te moedig as verlengstuk van die polisiëringsfunksie. Volgens Faull (2010:22) behoort die meting van die polisie se prestasies nie net intern belangrik te wees nie, maar behoort die tevredenheid van die gemeenskap ook in aanmerking geneem te word. Faull (2010:24) meld verder dat polisieaktiwiteite gemotiveer behoort te word deur goeie kennis van die doel van die polisie en die reg moet deurlopend konstant toegepas word. Legitimiteit behoort die instrument vir prestasie te wees. Handelinge en optrede met lae legitimiteit wat die huidige prestasiemeting ondersteun, veroorsaak dat die polisie verder van die gemeenskappe verwyder raak. 

6.2 Aanbevelings ten opsigte van SAPD-leierskap as faktor in die strategiese bestuursproses

Die SAPD se topstruktuur is oorlaai met ’n hoë konsentrasie offisiere in die hoofkantoor wat van operasionele polisiëring verwyderd is. Die struktuur is ook hiërargies en volg prosedures wat effektiewe interne kommunikasie bemoeilik. Hierdie toedrag van sake inhibeer effektiewe afwenteling van besluitneming, wat polisiebeamptes op operasionele vlak se vermoë beperk om probleme op ’n basis van professionele diskresie op te los. Langtermyn- strategiese beplanning is dus ’n vereiste vir die SAPD in ’n klimaat van hoër gemeenskapsverwagtings en die gekompliseerdheid van interafhanklike veranderlikes. In teenstelling met tradisionele beplanning is strategiese beplanning proaktief, kan dit op lang termyn geïmplementeer word en is dit gemeenskapsgerig. Dit is belangrik dat die SAPD-leierskap ’n duidelike begrip het van strategiese beplanning wat betref die gemeenskappe wat gedien word. ’n Algemene begrip van doelwitte het nie net ’n eenvormige toekomsvisie tot gevolg nie, maar help ook om alle beskikbare hulpbronne te mobiliseer om op doeltreffende en effektiewe wyse vir verandering voorsiening te maak. Die uitvoering van effektiewe strategiese beplanning sal tot gevolg hê dat die publiek vertroue in die SAPD sal hê en dat daar aangepas kan word by die snel veranderde dinamiese eksterne omgewing.

6.3 Aanbeveling ten opsigte van opleiding en gesindhede van SAPD-lede

Die minister van polisie is verantwoordelik vir die fasilitering van die proses om ’n dinamiese polisiediens tot stand te bring. Afgesien van die feit dat politici nie professionele polisiebestuurders is nie, bly bestuurders verantwoordelik vir die operasionele besluitneming en die implementering van beleid, terwyl daar van politieke leiers verwag word om rigting, leiding en ondersteuning aan die proses van verandering te gee. Professionele en etiese optrede word van polisielede verwag, dus is dit noodsaaklik dat behoorlike indiensopleiding oor professionalisme en etiese norme en standaarde deurlopend aangebied word. Senior bestuurders bly aanspreeklik vir die optrede van lede op operasionele vlak. Dit is dus noodsaaklik dat hulle toesig hou oor alle lede om te verseker dat etiese norme en standaarde toegepas word ten einde onetiese optrede te voorkom. Die gesindhede en etiese optrede van die senior bestuurders kan dus oorspoel en optrede van die operasionele personeel beïnvloed. Strategiese bestuur beteken uiteindelik die aanpassing van menslike gedrag en die verbetering van organisasieprestasie ten opsigte van dienslewering.

6.4 Aanbeveling ten opsigte van organisasiekultuur in die SAPD as bousteen van strategiese bestuur

Vir die suksesvolle implementering van die strategiesebestuursproses, is dié proses afhanklik van ’n geskikte organisasiekultuur. Hierdie organisasiekultuur behoort deur die organisasie se leierskorps ontwikkel en bestuur te word vir die suksesvolle implementering daarvan, wat dan die veranderingsproses ook behoort te ondersteun. Kultuur speel ’n dominante rol in individuele, groep- en organisasiedoeltreffendheid. Die vestiging van ’n kultuur is die verantwoordelikheid van die organisasie se leierskorps, terwyl hulle ook verantwoordelik is vir die suksesvolle bestuur daarvan sodat organisasietransformasie doeltreffend kan realiseer. Om die SAPD in staat te stel om ’n werklike bydrae in Suid-Afrika te lewer, behoort ’n dienskultuur in die polisiediens gevestig te word. Hierdie dienskultuur kan bewerkstellig word deur gedrags- en gesindheidsverandering onder lede van die polisiediens. Die kultuur van verwydering tussen polisiëringsvennote behoort vervang te word met ’n kultuur van toenadering tot die gemeenskap wat gedien word. Die klem val dus hier op die vervanging van die onpersoonlike polisiëringstyl met ’n gemeenskapsvriendelike diensgeoriënteerde styl.

 

7. Gevolgtrekking

Die uitdaging aan die SAPD is dus om ’n hoë peil van administratiewe en bestuursdiskresie, bestuurselfstandigheid en toewyding te handhaaf en terselfdertyd steeds onderworpe te bly aan politieke beheer en aanspreeklikheid teenoor alle gemeenskappe aan wie ’n diens gelewer behoort te word. Die maatstaf vir die suksesvolle implementering en werking van die strategiesebestuursproses is waarskynlik of die SAPD tegelykertyd kan voldoen aan die eise van die markstelsel en steeds instrumente van die gemeenskap kan wees. Die SAPD kan nooit slegs op interne beheermaatreëls fokus nie. As gevolg van die eiesoortigheid van die organisasie behoort die SAPD onder beheer van die gemeenskap te wees. Openbare verantwoordelikheid en aanspreeklikheid noodsaak dat die evaluering van openbare belang in ag geneem behoort te word. Polisieoptrede behoort van so ’n aard te wees dat dit die toets van openbare evaluering, wetgewende en geregtelike oorsig slaag.

Uit die navorsing het dit duidelik na vore gekom dat effektiewe strategiese bestuur wel, met die nodige klemverskuiwings, wesenlike voordele vir die SAPD kan inhou. Strategiese bestuur kan in enige organisasie toepassing vind. Die waarde daarvan is dat die organisasie wat strategies bestuur word, makliker die wesenlike invloede van die eksterne omgewing kan hanteer en sodoende proaktief kan aanpas. Die sosiopolitieke en ekonomiese omstandighede in Suid-Afrika maak beleidsaanpassings in openbare organisasies noodsaaklik as gevolg van die dinamiese verandering op hierdie terrein. Met behulp van ’n strategiese plan sal die SAPD-bestuur die organisasie proaktief kan bestuur na gelang van wat die interne en eksterne omgewing vereis. Doeltreffende polisiebestuurders behoort daardie bestuurders te wees wat strategiese bestuur optimaal benut en daadwerklik toepas sodat doeltreffende dienslewering optimaal aan die diverse gemeenskappe gelewer kan word.

Die intensiteit en belangrikheid van senior polisiebestuurders se proaktiewe beplanningstaak het ingrypend toegeneem met betrekking tot die omstandighede waarin Suid-Afrika tans verkeer met die misdaadaanslag op alle gemeenskappe. Proaktiewe strategiese beplanning is die primus inter pares van doeltreffende bestuur. Strategiese bestuur is egter gegrond op behoorlike strategiese beplanning. Strategiese beplanning word gesien as ’n gedissiplineerde poging om fundamentele besluite en aksies te verkry wat die toekoms van organisasies soos die SAPD suksesvol kan rig. Strategiese beplanning bestaan uit besluite aangaande die missie van die organisasie, ’n uiteensetting van die doelstellings en doelwitte, toewysing van hulpbronne en die bepaling van operasionele riglyne. Strategiese beplanning beskik oor die nodige soepelheid om die unieke, dikwels irrasionele omgewing waarin die bestuurder hom bevind, te hanteer. Dit blyk ook dat die strategiesebestuur- en strategiesebeplanningstegnieke waardevolle hulpmiddels is vir die professionele polisiebestuurder met betrekking tot die verwesenliking van doelstellings en doelwitte van die SAPD. 

Daar word opsommend daarmee volstaan dat die volgende geformuleerde navorsingshipoteses geverifieer en aanvaar kan word vir die suksesvolle implementering van strategiese bestuur in die SAPD ten einde dienslewering te optimaliseer:

  • Die implementering van effektiewe strategiese bestuur in die SAPD het ’n invloed op optimale dienslewering.
  • Effektiewe leierskap in die SAPD is ’n bepalende faktor vir die sukses van strategiese bestuur ten einde dienslewering te optimaliseer.
  • ’n Geskikte organisasiekultuur in die SAPD behoort deur die leierskorps gevestig en in stand gehou te word vir die nastrewing van organisasiedoeltreffendheid en -effektiwiteit.
  • ’n Geskikte organisasiekultuur is noodsaaklik vir die suksesvolle implementering van die strategiesebestuursproses in die SAPD.

 

Bibliografie

African News Agency. 2017. Police need new, strong leadership. The Times, 24 Oktober, bl. 6.

—. 2018. Call for SAPS shake-up. Citizen Saturday, 29 September, bl. 6.

Andersson, T. en S. Tengblad. 2009. When complexity meets culture: New public management and the Swedish police. Qualitative research in accounting & management, 6(1/2):41–56. 

Andrews, R. en S. Van de Walle. 2012. New public management and citizens’ perceptions of local service efficiency, responsiveness, equity and effectiveness. Public Management Review, 15(5):762–83.

Australian Public Service Commission. S.j. Senior executive leadership capability framework. https://www.apsc.gov.au/senior-executive-leadership-capability-framework (22 Oktober 2019 geraadpleeg). 

Bailey, C. 2014. Lack of training behind police brutality. Sunday Independent, 2 Februarie, bl. 9.

Bezuidenhout, N. 2014. SA opens its first police university. Cape Argus, 31 Januarie, bl. 12. 

Bishopp, S.A., N.L. Piquero, J.L. Worrall en A. Piquero. 2018. Negative affective responses to stress among urban police officers: A general strain theory approach. Deviant Behavior, 40(6):635–54. 

Bloem, D. 2015. Crime statistics only tip of iceberg. Daily News, 5 Oktober, bl. 4. 

Boyne, G.A. en R.M. Walker. 2010. Strategy content and public service organizations. Journal of Public Administration Research and Theory, 14(2):231–52.

Braun, V. en V. Clarke. 2013. Successful qualitative research: A practical guide for beginners. Thousand Oaks, CA: SAGE.

Bribery in a culture of impunity. 2014. Sunday Times, 16 Februarie, bl. 12. 

Brough, P., S. Chataway en A. Biggs. 2016. “You don’t want people knowing you’re a copper!” A contemporary assessment of police organisational culture. International Journal of Police Science and Management, 18(1):28–36. 

Brown, J.M. (red.). 2014. The future of policing. Abingdon: Routledge.

Bryson, J.M. 2004. Strategic planning for public and nonprofit organizations: A guide to strengthening and sustaining organizational achievement. 3de uitgawe. San Francisco: Jossey-Bass. 

Buccus, I. Police machismo encourages violence. Sunday Independent, 5 November, bl. 17. 

Burger, J. 2007. Strategic perspectives on crime and policing in South Africa. Pretoria: Van Schaik.

—. 2013. The National Development Plan can improve policing in South Africa. https://issafrica.org/iss-today/the-national-development-plan-can-improve-policing-in-south-africa (22 Oktober 2019 geraadpleeg).

—. 2015a. A new national police commissioner for South Africa: how to get it right? ISS Today. https://issafrica.org/amp/iss-today/a-new-national-police-commissioner-for-south-africa-how-to-get-it-right (22 Oktober 2019 geraadpleeg). 

—. 2015b. Leading a horse to water: Assessing review mechanisms of SAPS performance. South African Crime Quarterly, 53:49–58.

Caless, B. en S. Tong. 2015. Leading policing in Europe: An empirical study of strategic police leadership. Bristol: Policy Press. 

Campeau, H. 2015. “Police culture” at work: Making sense of police oversight. British Journal of Criminology, 55:669–87.

Capazorio, B. 2015. R700m to apply post-Marikana recommendations. Daily Dispatch, 3 September, bl. 2.

Charman, S. en D. Corcoran. 2015. Adjusting the police occupational cultural landscape: The case of An Garda Síochána. Policing and Society, 25(5):484–503.

Charrier, K. 2004. Strategic management in policing: The role of the strategic manager. The Police Chief, 71(6):1–6. 

Chikunga, S. 2012. On the record. South African Crime Quarterly, 40:41.

Cockcroft, T. 2012. Police culture: Themes and concepts. Londen: Routledge.

—. 2015. Golden ages, red herrings and post-Keynesian policing. Norkisk: Aalborg.

Collinson, D. 2012. Prozac leadership and the limits of positive thinking. Leadership, 8(2):87–107.

Conlon, E. 2004. Blue blood. New York: Penguin.

Constantinou, A. 2016. “Demystifying” the police: A participant observation study of police stops (and searches). International Journal of Comparative and Applied Criminal Justice, 40:79–99. 

Conway, V. 2010. The blue wall of silence: The Morris tribunal and police accountability in Ireland. Dublin: Irish Academic Press.

Conway, V. en D. Walsh. 2011. Current developments in police governance and accountability in Ireland. Crime, law and social change, 55(2):241–57. 

Cordner, G. 2017. Police culture: individual and organizational differences in police officer perspectives. Policing: An International Journal of Police Strategies & Management, 40(1):11–25.

Cordner, G.W. en K.E. Scarborough. 2010. Police administration. 7de uitgawe. New Providence, New Jersey: Lexis Nexis Group.

Cox, C. en S. Kirby. 2018. Can higher education reduce the negative consequences of police occupational culture amongst new recruits? Policing: An International Journal, 41(5):550–62. 

Craig, C., G. Marnoch en I. Topping. 2010. Shared leadership with minority ethnic communities: Views from the police and the public in the UK. Policing and Society, 20(3):336–57. 

Crank, J.P. 1998. Understanding police culture. Cincinnati: Anderson Publishing.

Crawford, J. en J. Kelder. 2018. Do we measure leadership effectively? Articulating and evaluating scale development psychometrics for best practice. The Leadership Quarterly, 30(1):133–44. 

Crevani, L., M. Lindgren en J. Packendorff. 2010. Leadership, not leaders: On the study of leadership as practices and interactions. Scandinavian Journal of Management, 26(1):77–86.

Cronje, J. 2014. Public to vet new police. Sunday Argus, 15 Maart, bl. 1. 

Cruywagen, D. 2017. SAPS slammed as “worst performing department”. The New Age, 14 Junie, bl. 4.

Dano, Z. 2014. “Jack up” management – Ipid. Cape Argus, 6 Februarie, bl. 10. 

Davis, C. 2018. Rank matters: Police leadership and the authority of rank. Policing and Society. https://www.tandfonline.com/doi/abs/10.1080/10439463.2018.1555250?journalCode=gpas20 (22 Oktober 2019 geraadpleeg). 

Day, D., J. Fleenor, L. Atwater, R. Sturm en R. McKee. 2014. Advances in leader and leadership development: A review of 25 years of research and theory. The Leadership Quarterly, 25(1):63–82.

De la Harpe, A. 1987. ’n Evaluering van die proses van strategiese veranderinge in EVKOM met spesiale verwysing na strategiese beplanning en beeld. Ongepubliseerde MBA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Demirkol, I.C. en M.K. Nalla. 2019. How does police culture shape officers’ support for community policing? Policing and Society, 29(6):692–705.

Dessler, G. 2011. Human resource management. Global and Southern African perspectives. Kaapstad: Pearson.

Diale, L. 2014. Most cases against police are for torture. The New Age, 19 Februarie, bl. 8.

Dodds, C. 2014. Action plan needed to bring about “sea change” in police. Sunday Independent, 21 September, bl. 6.

Drumaux, A. en C. Goethals. 2007. Strategic management: A tool for public management? An overview of the Belgian federal experience. International Journal of Public Sector Management, 20:638–54. 

Ewijk, A. 2012. Diversity within police forces in Europe: a case for comprehensive review. Policing, 6(1):76–92. 

Faull, A. 2010. When measuring performance undermines police effectiveness. South Africa Crime Quarterly, 31:19–25.

Favoreu, C., D. Carassus en C. Maurel. 2015. Strategic management in the public sector: A rational, political or collaborative approach? International Review of Administrative Sciences, 82(3):435–53.

Ferlie, E. en E. Ongaro. 2015. Strategic management in public services organizations: concepts, schools and contemporary issues. Abingdon: Routledge Taylor & Francis.

Fleming, J. 2014. The pursuit of professionalism: Lessons from Australasia. In Brown (red.). 2014. 

Flick, U. 2014. An introduction to qualitative research. 5de uitgawe. Thousand Oaks, CA: SAGE.

—. 2015. Introducing research methodology: A beginner’s guide to doing a research project. 2de uitgawe. Thousand Oaks, CA: SAGE. 

Fox, W., E. Schwella en H. Wissink (reds.). 2004. Public management. Stellenbosch: SUN Press.

Frederiksson, M. en J. Pallas. 2016. Characteristics of public sectors and their consequences for strategic communication. International Journal of Strategic Communication, 10(3):149–52. 

Genç, E. en R. Şengül. 2015. A review on the relationship between strategic management and performance: The role of internal and external contexts. Strategic Public Management Journal, 2:56–71.

Germaner, S. 2014. Police minister meets top brass for talks on crime. The Star, 20 Augustus, bl. 4.

Goldstone, C. 2009. Police must shoot to kill, worry later – Cele. https://www.iol.co.za/news/south-africa/police-must-shoot-to-kill-worry-later-cele-453587 (15 Februarie 2020 geraadpleeg). 

Gough, D., S. Oliver en J. Thomas. 2012. An introduction to systematic reviews. Londen: SAGE.

Graef, R. 2012. Why the lessons of Lawrence are still being learnt by the Met? The Times, 4 Januarie.

Grint, K. 2005. Leadership: Limits and possibilities. Londen: Palgrave Macmillan.

Grint, K., C. Holt en P. Neyroud. 2017. Cultural change and lodestones in the British police. International Journal of Emergency Services, 6(3):166–76.

Gwangwa, V. 2017. Thousands of SAPS vehicles out of service. Pretoria News, 28 Maart, bl. 4.

Hansen, J. en E. Ferlie. 2016. Applying strategic management theories in public sector organizations: Developing a typology. Public Management Review, 18(1):1–19. 

Hansen Rosenberg, J. 2011. Application of strategic management tools after an NPM Inspired Reform: Strategy as practice in Danish schools. Administration & Society, 43(7):770–806.

Hartley, W. 2014. Police “ignoring advice from directorate”. Business Day, 13 November, bl. 3.

Herrington, V. 2015. Assessing the impact of public safety leader development in Australasia. Policing and Society. https://www.tandfonline.com/doi/abs/10.1080/10439463.2015.1108314 (22 Oktober 2019 geraadpleeg). 

Herrington, V. en A. Colvin. 2016. Police leadership for complex times. Policing, 10(1):7–16.

Herrington, V. en J.A. Schafer. 2019. Preparing individuals for leadership in Australasia, the United States, and the UK. Police Practice and Research, 20(3):240–58.

High crime is a great worry. 2015. Sowetan, 30 September, bl. 4. 

Hitt, M.A., J.S. Black en L.W. Porter. 2012. Management. 3de uitgawe. Old Tappan, New Jersey: Prentice Hall.

HMIC. 2017. State of policing: The annual assessment of policing in England and Wales 2016. Londen: HMIC. 

Ho, A.T. en W. Cho. 2016. Government communication effectiveness and satisfaction with police performance: A large-scale survey study. Public Administration Review, 77(2):228–39.

Höglund, L. en F. Svärdsten. 2015. Strategic management in public sector: Challenges in theory and practice. Referaat gelewer by die Nordiese Akademie vir Bestuur, Kopenhagen Besigheidskool, Denemarke, 12–14 Augustus 2015. 

Holdaway, S. 2017. The re-professionalization of the police in England and Wales. Criminology and Criminal Justice, 17(5):588–604. 

Hough, M., T. May, G. Hales en J. Belur. 2018. Misconduct by police leaders in England and Wales: An exploratory study. Policing and Society, 28(5):541–52.

Ingram, J.R., W. Terrill en E.A.I. Paoline. 2018. Police culture and officer behavior: Application of a multilevel framework. Criminology, 56(4):780–811.

Jans, N., S. Mugford, J. Cullens en J. Frazer-Jans (reds.). 2013. A study of strategic leadership. Canberra: Australian Defence College.

Joyce, P. 2015. Strategic management in the public sector. New York: Routledge.

Klein, P. 2013. Performance vulnerabilities at the strategic level. In Jans, Mugford, Cullens en Frazer-Jans (reds.). 2013. https://www.defence.gov.au/ADC/Publications/Chiefs/TheChiefs.pdf (22 Oktober 2019 geraadpleeg).

Kobe, N. 2014. Police need to take Batho Pele principles to heart. The New Age, 25 September, bl. 18.

Kop, N. en M. Euwema. 2001. Occupational stress and the use of force by Dutch police officers. Criminal Justice and Behavior, 28(5):631–52.

Koyana, X. 2014. 130 Criminal complaints laid against police. Cape Times, 6 Februarie, bl. 5.

Kritzinger, N.F. 2014. 70% cop delivery gripes solved. The New Age, 13 Oktober, bl. 7.

Lane, J.-E. en J. Wallis. 2009. Strategic management and public leadership. Public Management Review, 11(1):101–20. 

Langry, T. 2014. Police probe forum complaints. Sunday Tribune, 9 Februarie, bl. 3.

Loftus, B. 2010. Police occupational culture: Classic themes, altered times. Policing and Society, 20(1):1–20.

—. 2012. Police culture in a changing world. Clarendon Series in Criminology. Oxford: Oxford University Press. 

Lystbaek, C.T., J. Holmgren en O. Friis. 2017. Strategy discourses in public sector organizations: A qualitative focus group study. International Public Management Review, 18(1):21–44.

Mabeba, M. 2014. Our police force is out of control. The New Age, 22 Januarie, bl. 18. 

Magubane, K. 2018. Illiterate police “a problem”. Business Day, 2 Februarie, bl. 4.

Mamabolo, R. 2017. SAPS should review whole organisational structure – POPCRU. https://www.politicsweb.co.za/news-and-analysis/saps-should-review-whole-organisational-structure- (15 Februarie 2020 geraadpleeg). 

Maromo, J. 2018. Police “to blame” for violence against women. The Citizen, 17 Mei, bl. 4. 

Martins, N. en M. Coetzee. 2007. Organisational culture, employee satisfaction, perceived leader emotional competency and personality type: An exploratory study in a South African engineering company. SA Journal of Human Research Management, 5(2):20–32.

Masal, D. en R. Vogel. 2016. Leadership, use of performance information, and job satisfaction: Evidence from police services. International Public Management Journal, 19(2):208–34.

Mashigo, H. 2017. Beleaguered cops pay heavy price. The New Age, 22 September, bl. 2.

Mastrofski, S.D. 2015. Ideas and insights: police CEOs: agents of change? The Police Chief, 82:53–54.

Matlala, G. 2017. Customer service in SAPS “appalling”. The Star, 25 Oktober, bl. 2.

Mayer, D.M., M. Kuenzi en R. Greenbaum. 2010. Examining the link between ethical leadership and employee misconduct: The mediating role of ethical climate. Journal of Business Ethics, 95:7–16.

Mbhele, Z. 2015. Response times unreliable. Daily News, 5 Oktober, bl. 5.

McBain, L. en J. Smith. 2010. Strategic management in the public sector. E-Leader International Journal Singapore. Fort Lee, NJ: Chinese American Scholars Association. http://www.g-casa.com/conferences/singapore/papers_in_pdf/mon/McBain.pdf (4 November 2019 geraadpleeg).

McLaughlin, E. 2007. The new police. Londen: SAGE. 

Mdletshe, C. 2014. Cops’ strategy challenge. The New Age, 7 Februarie, bl. 1.

Meintjies, F. 2014. Step up fight against crime. The New Age, 31 Oktober, bl. 18.

Memela, M. 2014. Police at pains to clear their image. The New Age, 28 Augustus, bl. 8.

Merten, M. 2014. Nhleko maps out police plan. The Star, 9 Junie, bl. 5.

—. 2015. Major overhaul for police proposed. Cape Argus, 19 November, bl. 2.

Miles, M.B., A.M. Huberman en J. Saldaña. S.j. Qualitative data analysis. A methods sourcebook. 3de uitgawe. Los Angeles: SAGE. https://pdfs.semanticscholar.org/8c1a/1e2d51336272897298ef19adf7266903cf6a.pdf (10 November 2019 geraadpleeg). 

Miller, L. 2004. Good cop–Bad cop: Problem officers, law enforcement culture, and strategies for success. Journal of Police and Criminal Psychology, 19(2):30–48. 

Minnaar, F. 2010. Strategic and performance management in the public sector. Pretoria: Van Schaik.

Money alone won’t solve problem. 2014. Business Day, 5 September, bl. 8. 

Morin, R., K. Parker, R. Stepler en A. Mercer. 2017. Behind the badge: Amid protests and calls for reform, how police view their jobs, key issues and recent fatal encounters between blacks and police. Washington, DC: The Pew Research Center. https://assets.pewresearch.org/wp-content/uploads/sites/3/2017/01/06171402/Police-Report_FINAL_web.pdf (22 Oktober 2019 geraadpleeg). 

Nasionale Ontwikkelingsplan 2030. https://www.gov.za/sites/default/files/Executive%20Summary-NDP%202030%20-%20Our%20future%20-%20make%20it%20work.pdf (3 September 2019 geraadpleeg).

National Development Plan 2030. 2011. https://www.gov.za/sites/default/files/Executive%20Summary-NDP%202030%20-%20Our%20future%20-%20make%20it%20work.pdf (3 September 2019 geraadpleeg).

National Planning Commission. 2012. National Development Plan 2030: Our future – make it work. Pretoria: Die Presidensie.

Newham, G. 2013. Toespraak gelewer by die ISS Annual Conference on National and International Perspectives on Crime and Criminal Justice, Rosebank Hyatt Hotel, Johannesburg, 21 en 22 Augustus. 

—. 2015a. Avoiding another Marikana massacre: Why police leadership matters. South African Crime Quarterly, 53:39–48.

—. 2015b. Helping Parliament fix the police leadership crisis. https://issafrica.org/amp/iss-today/spotlight-helping-parliament-fix-the-police-leadership-crisis (20 Oktober 2019 geraadpleeg).

—. 2017. Zuma’s free hand a disaster for policing. Business Day, 5 Junie, bl. 4.

Neyroud, P. 2011. Review of police leadership and training. Londen: Home Office. 

Nombembe, P. 2014. Blue line just too thin. The Times, 26 Augustus, bl. 2.

Nowhere is safe from crooks, cops. 2014. The Citizen, 31 Januarie, bl. 12.

Nyaka, F. 2014. Cops vow to revive integrity. The New Age, 3 Februarie, bl. 24.

O’Leary, Z. 2014. The essential guide to doing your research project. 2de uitgawe. Thousand Oaks, CA: SAGE.

O’Reilly, M. en N. Kiyimba. 2015. Advanced qualitative research. A guide to using theory. Thousand Oaks, CA: SAGE.

Ortmeier, P. en J. Davis. 2012. Police administration: A leadership approach. New York: McGraw Hill.

Paesen, H., J. Maesschalck en K. Loyens. 2019. Beyond police culture: A quantitative study of the organisational culture in 64 local police forces in Belgium. Policing: An International Journal, 42(5):814–31.

Paoline, E.A. en J.M Gau. 2018. Police occupational culture. Testing the monolithic model. Justice Quarterly, 35(4):670–98. 

Parsons, A. R., P. Kautt en T. Coupe. 2011. Effective policing: Management influence and the commitment of senior police personnel. Policing and Society: An International Journal of Research and Policy, 21(1):1–26.

Pearson-Goff, M. en V. Herrington. 2014. Police leadership: A systematic review of the literature. Policing: A Journal of Policy and Practice, 8(1):14–26.

Phakathi, B. 2014. Poor township services make for poor policing. Business Day, 13 Februarie, bl. 4. 

Pickett, J. en J. Nix. 2019. Demeanor and police culture: Theorizing how civilian cooperation influences police officers. Policing: An International Journal, 42(4):537–55. 

Poister, T.H. 2010. The future of strategic planning in the public sector: Linking strategic management and performance. Public Administration Review, 70:246–54.

Pollanen, R., A. Abdel-Maksoud, S. Elbanna en H. Mahama. 2017. Relationships between strategic performance measures, strategic decision-making, and organizational performance: Empirical evidence from Canadian public organizations. Public Management Review, 19(5):1–22. 

Pollitt, C. en G. Bouckaert. 2011. Public management reform: A comparative analysis – new public management, governance, and the neo-Weberian state. 3de uitgawe. New York: Oxford University Press.

Rainey, H.G. 2009. Understanding and managing public organizations. San Francisco: Jossey-Bass.

Rall, S.-E. 2017. Only two choppers out of four in working order. Daily News, 19 Julie, bl. 1.

Ramovha, N.T. 2009. The effectiveness of strategic management in the public service: A case study on the Department of Local Government and Housing in Limpopo provincial administration. MA-verhandeling, Universiteit van KwaZulu-Natal, Durban.

Reiner, R. 2000. The politics of the police. Oxford: Oxford University Press. 

—. 2017. Is police culture cultural? Policing: A Journal of Policy and Practice, 11(3):236–41.

Republic of South Africa. Independent Police Investigative Directorate. 2018. Annual Report 2017/18. Pretoria: Independent Police Investigative Directorate.

Republiek van Suid-Afrika. Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat. 2018. Annual Report 2017/18. Pretoria: Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat.

Republiek van Suid-Afrika. 1995. Suid-Afrikaanse Polisiedienswet 68 van 1995. Pretoria: Staatsdrukker.

Robbins, S.P., T.A. Judge, A. Odendaal en G. Roodt. 2009. Organisational behaviour: Global and South African perspectives. 2de uitgawe. Kaapstad: Pearson Education.

Roberts, K., V. Herrington, W. Jones, J. White en D. Day. 2016. Police leadership in 2045: The value of education in developing leadership. Policing, 10(1):26–33.

Samed, D. 2015. Toward an understanding of the effect of leadership on employee wellbeing and organizational outcomes in Australian universities. The Journal of Developing Areas, 49(6):441–8. 

SA police under threat. 2014. Mail & Guardian, 11 Augustus, bl. 5. 

Schein, E.H. 2010. Organizational culture and leadership. 4de uitgawe. San Francisco: Jossey-Bass. 

Schwella, E. 2004. Strategic management. In Fox, Schwella en Wissink (reds.) 2004.

“Shoot to kill” order bites back at our populist politicians. 2009. The Times, 13 Oktober, bl. 16.

Silver, J.R., S.P. Roche., T.J. Bilach en S.B. Ryon. 2017. Traditional police culture, use of force, and procedural justice: investigating individual, organizational, and contextual factors. Justice Quarterly, 34(7):1272–309. 

Silvestri, M. 2011. Women in charge: Policing, gender and leadership. Londen: Routledge.

Sklansky, D.A. 2006. Not your father’s police department: Making sense of the new demographics of law enforcement. Journal of Criminal Law and Criminology, 96(3):1209–44.

Skolnick, J. en J. Fyfe. 1993. Above the law: police and the excessive use of force. New York: Free Press.

Skolnick, J.H. 2011. Justice without trial: Law enforcement in democratic society. 4de uitgawe. New Orleans, LA: Quid Pro Books.

South African Police Service. 2019. Vision, mission and values statement. Pretoria. Government Printer.

Strategic Management: The public and private sector. 2017. https://www.ukessays.com/essays/business/strategic-management-in-the-public-and-private-sector-business-essay.php (6 November 2019 geraadpleeg).

Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, Marikana Kommissie van Ondersoek. 2015. Marikana Commission of Inquiry: Report on matters of public, national and international concern arising out of the tragic incidents at the Lonmin mine in Marikana, in the North West province. Pretoria: Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie.

Suid-Afrikaanse Polisiediens. 2000. Strategiese Plan 2000. Pretoria: Staatsdrukker.

—. 2002. Strategiese Plan 2002. Pretoria: Staatsdrukker.

—. 2004. Strategiese Plan 2004. Pretoria: Staatsdrukker.

—. 2005. Strategiese Plan 2005. Pretoria: Staatsdrukker.

—. 2010. Strategiese Plan 2010. Pretoria: Staatsdrukker.

—. 2014. Strategiese Plan 2014. Pretoria: Staatsdrukker.

—. 2019a. Jaarverslag 2018/2019. Pretoria: Staatsdrukker.

—. 2019b. Missie van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Pretoria: Staatsdrukker.

—. 2019c. Suid-Afrikaanse Polisiediens Gedragskode. http://www.saps.gov.za/about/conduct.php (22 Oktober 2019 geraadpleeg).

Taormina, R.J. 2009. Organizational socialization: The missing link between employee needs and organizational culture. Journal of Managerial Psychology, 24(7):650–76.

Tasdoven, H. en M. Kaya. 2014. The impact of ethical leadership on police officers’ code of silence and integrity: Results from the Turkish National Police. International Journal of Public Administration, 37(9):529–41.

Tau, S. 2014. Replacing Mthethwa was “necessary”. The Citizen, 29 Mei, bl. 6.

Terpstra, J. en D. Schaap. 2013. Police culture, stress conditions and working styles. European Journal of Criminology, 10(1):59–73. 

Terrill, W. en E.A. Paoline. 2015. Citizen complaints as threats to police legitimacy: The role of officers’ occupational attitudes. Journal of Contemporary Criminal Justice, 31(2):192–211.

Tswanya, Y. 2018. “Cele needs to overhaul police”. Cape Argus, 14 Maart, bl. 1.

Umraw, A. en K. Pillay. 2015. Cops “lazy” say public. The Witness, 2 Desember, bl. 3.

Van der Merwe, J.J. 2016. Die evaluasie van strategiese bestuur ten einde dienslewering te optimaliseer in die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Suid-Afrika. 

Van der Waldt, G. en D.F.P. du Toit. 2009. Learning scenario planning. PowerPoint presentation, unpublished. Foresight Planning and Review. Swinburne University of Technology.

Van Dijk, A., F. Hoogewoning en M. Punch. 2015. What matters in policing? Change, values and leadership in turbulent times. Bristol: Policy Press.

Walker, R.M., R. Andrews, G.A. Boyne, K.J. Meier en L.J. O'Toole. 2010. Wakeup call: Strategic management, network alarms and performance. Public Administration Review, 70:731–41.

Watson, A. 2014. Rotten cops, crowd training in spotlight. The Citizen, 15 April, bl. 6.

—. 2015. Phiyega joins Jackie Selebi club as charge is laid. The Citizen, 1 Desember, bl. 5.

When protectors turn into enemies of the community. 2014. Sunday Times, 2 Februarie, bl. 20.

Wilson, G. 2018. Damning report on criminal cops. The EP Herald, 1 November, bl. 2.

Wright, B.E. en S. K. Pandey. 2010. Transformational leadership in the public sector: Does structure matter? Journal of Public Administration Research and Theory, 20(1):75–89.

 

Eindnota

1 Aanhalings uit bronne is vertaal deur die taalsentrum van die universiteit waarby die skrywers geaffilieer is.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Die evaluasie van organisasiekultuur en leierskap as boustene van strategiese bestuur ten einde dienslewering in die Suid-Afrikaanse Polisiediens te optimaliseer appeared first on LitNet.


’n Taksering van interne kontroles, die hekwag wat bedrog in die tenderstadium van aankoopsiklusse voorkom

$
0
0

’n Taksering van interne kontroles, die hekwag wat bedrog in die tenderstadium van aankoopsiklusse voorkom

Jan Venter, senior forensiese ouditeur in die mynbedryf
Hendrik Lochner, Departement Polisiepraktyk, Forensiese en Kriminele-ondersoekwetenskap, Universiteit van Suid-Afrika
Juanida Horne, Departement Polisiepraktyk, Forensiese en Kriminele-ondersoekwetenskap, Universiteit van Suid-Afrika

LitNet Akademies Jaargang 17(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Die nuus in Suid-Afrika is deurspek met berigte van aankoopbedrog. Die omstrede wapentransaksie (nog nie afgehandel nie), die R500-miljoen-huurooreenkoms toe Bheki Cele polisiekommissaris was, die suiwelprojek by Vrede, die toekenning van kontrakte aan die Gupta-bestuurde Tegetamyne, bewerings van aankoopongerymdhede voor die Zondokommissie, munisipale bedrog in die eThekwini Munisipaliteit, en die bedrog en korrupsie in die aankoop van lokomotiewe deur Transnet is almal voorbeelde van ’n enorme probleem in private en openbare organisasies. Die rede vir hierdie aankoopongerymdhede is dat interne kontroles in die aankoopsiklus omseil is of nie toegepas is nie. Aankoopbedrog kom in alle fases van die aankoopsiklus voor, maar veral in die tenderfase. Dit word nie as ’n sakemisdryf beskou nie, maar wel as ’n administratiewe onreëlmatigheid. Hierdie onwettige insidente is die gevolg van ’n afwesigheid van interne kontroles, waaronder die gebrek aan prosedures om die doeltreffendheid van sodanige kontroles te assesseer.

Die oogmerk van hierdie artikel is om aan te toon dat bedrog in die aankoopsiklus gepleeg word wanneer interne kontroles gesystap word of die internekontrolestelsel van ’n organisasie ondoeltreffend is. Die skrywers van hierdie artikel het die assessering van interne kontroles bestudeer en aanbevelings gemaak om bedrog wat met aankoop verband hou, spesifiek in die tenderfase van die aankoopsiklus, te identifiseer, te voorkom en te ondersoek. Venter (2016:38–9) het bevind dat die meeste aankoopbedrog in die tenderfase van die aankoopsiklus voorkom, wat later in besonderhede behandel word.

Trefwoorde: aankoop; aankoopbedrog; aankoopsiklus; bedrog; interne kontroles; korrupsie; rooi vlae; wanvoorstelling

 

Abstract

Appraising internal controls, the gatekeeper that prevents fraud during the tender stage of procurement cycles

The news in South Africa is riddled with reports of procurement fraud. The controversial (and as yet unfinalised) arms deal, the R500 million lease agreement when Bheki Cele was the commissioner of police, the Vrede dairy project, the awarding of contracts to the Gupta-managed Tegeta mines, allegations of procurement irregularities put before the Zondo Commission, municipal fraud in the eThekwini Municipality, and the fraud and corruption that arose during the procurement of locomotives by Transnet are all examples of an enormous problem that exists in both private and public organisations. This has been caused by internal controls in the procurement cycle being bypassed or not being applied at all. Procurement fraud occurs in all phases of the procurement cycle but is especially prevalent in the tendering phase. It is not viewed as a business crime, but rather as an administrative irregularity. These unlawful incidents come about due to the absence of internal controls, including a lack of procedures being in place to assess the effectiveness of such controls.

This article is intended to demonstrate that fraud is committed in the procurement cycle when internal controls are sidestepped or when the internal control system in an organisation is ineffective. The authors studied the assessment of internal controls and made recommendations to identify, prevent, and investigate procurement fraud, specifically during the tender phase of the procurement cycle. Venter (2016:38–9) found that most procurement fraud occurs during the tendering phase of the procurement cycle. This is discussed in detail in the article. 

Keywords: corruption; fraud; internal controls; misrepresentation; procurement; procurement fraud; procurement cycle; red flags

 

1. Inleiding

Dit is nie net die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se plig om misdaad te ondersoek nie. Artikel 1(1) van die Wet op die Regulering van die Private Sekuriteitsbedryf 56 van 2001 gee erkenning aan die gebruik van interne ondersoekers vir die strategiese, operasionele en sakegedrewe aspekte van ondersoeke. Suid-Afrikaanse regspraak verwys toenemend na die ondersoek van bepaalde misdrywe as ’n gespesialiseerde veld, en gee toe dat hierdie soort ondersoeke slegs met die hulp van onafhanklike ondersoekers gedoen kan word om die staat te help. In S v Botha en Ander (1) 1995 (2) SACR 598 (w), maak regter Myburgh melding van die kompleksiteite in die samelewing en sakewêreld, asook van die tersaaklike wetgewing. Regter Myburgh voer aan dat dit vir staatsondersoekers onmoontlik geword het om komplekse sake sonder die hulp van onafhanklike ondersoekers te ondersoek.

In Viking Pony Africa Pumps (Pty) Limited trading as Tricom Africa v Hidro-Tech Stelsels (Pty) Limited and Another (CCT 34/10) [2010] ZACC 21; 2011 (1) SA 327 (KH); 2011 (2) BCLR 207 (KH), wys hoofregter Mogoeng Mogoeng daarop dat dit die verantwoordelikheid van staatsdepartemente (in die algemeen) is om insidente en/of bewerings van aankoopbedrog (sonder verwysing na die SAPD) te ondersoek. Daarbenewens is ondersoeke nie meer net die SAPD se taak nie. Die skrywers hiervan beklemtoon dat verskeie private entiteite of maatskappye aankoopbedrog nie by die owerhede aanmeld indien die waarde daarvan onder die drempel, soos deur wetgewing bepaal, van R100 000 is nie. Hulle verkies om dit intern te ondersoek en eers ná die afhandeling van die ondersoek by die owerheid aan te meld. Artikel 34 van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede, Wet 2 van 2004 bepaal dat dit verpligtend is om bedrog aan te meld wat die genoemde drempel asook alle gevalle van korrupsie wat R100 000 oorskry (Suid-Afrika 2004).

Entiteite verkies dat hul interne ouditeurs en ondersoekers gevalle van bedrog en korrupsie ondersoek. Daar is ’n algemene konsensus dat ’n maatskappy se ouditeurs en/of ondersoekers beter toegerus is om ondersoeke na bedrog en korrupsie te onderneem, aangesien hulle vertroud is met die tersaaklike beleid en prosedures wat op die aankoopfunksie van toepassing is (Penny 2002:190). Met die voorgenoemde in gedagte, moet beklemtoon word dat maatskappye met ’n internasionale portefeulje nie wil hê dat die publiek moet weet dat bedrog by hulle voorkom nie. Penny (2002:190) is skepties oor die redes wat gegee word waarom die publiek nie van die bedrog bewus gemaak moet word nie. Hy noem dat die verkeerde boodskap deurgegee kan word indien ’n werknemer skuldig bevind word aan bedrog en ’n maatskappy die persoon nie strafregtelik laat vervolg nie. Murray (2014:8) glo dat bedrieglike bedrywighede maatskappye se reputasie skade kan berokken en belanghebbers kan laat twyfel aan die doeltreffendheid van die internekontrolestelsel wat aankoopbedrog moet verminder. Aankoopbedrog benadeel ook die vertroue van diegene wat in ’n maatskappy belê, wat weer die waarde van ’n maatskappy se aandele kan benadeel. Ondersoeke en oudits skep die moontlikheid van vervolging, hetsy departementeel of strafregtelik.

Volgens Biegelman en Bartow (2012:94) en Kass-Shraibman en Sampath (2011:299) word daar op ouditeurs staatgemaak om die doeltreffendheid van interne kontroles te evalueer om bedrog en korrupsie in ’n organisasie bloot te lê en te fnuik. Die metode wat die ouditeurs volg, is om eerstens die interne kontroles te bepaal en te dokumenteer, en tweedens om die kontroles te toets om te bepaal of dit behoorlik funksioneer. In hierdie artikel word gekonsentreer op noodsaaklike fasette van interne kontroles om aankoopbedrog gedurende die tenderfase van die aankoopsiklus te identifiseer, te voorkom en te ondersoek.

 

2. Navorsingsmetodologie

’n Kwalitatiewe benadering is in die navorsing gevolg, aangesien dit voorsiening maak vir die gebruik van semigestruktureerde onderhoude en ’n uitgebreide studie van die literatuur. ’n Empiriese ontwerp is as die geskikste vir hierdie studie beskou, aangesien dit gaan oor mense en hul optredes, sosiale intervensies en organisasies. In hierdie navorsing het die empiriese bewyse die produksie van kennis versterk, omdat dit gegrond was op die ervaring en waarnemings van die deelnemers. Wincup (2017:113–5) noem dat empiriese navorsing ’n uitstekende metode is om meer van misdaad en die strafreg te wete te kom.

Hierdie artikel is gebaseer op navorsing wat ter voltooiing van ’n meestersgraad (Venter 2016) gedoen is. Die data vir hierdie studie is verkry uit onderhoude met ondersoekers, ’n omvattende ontleding van die literatuur en die toegepaste kennis van die skrywers as ondersoekers van bedrog. In kwalitatiewe studies kan navorsers hul eie ervaring as ’n dataversamelingstegniek gebruik (Creswell 2013:83; Mills en Birks 2014:187). Een van die skrywers is ’n senior forensiese ouditeur by AngloGold Ashanti (AGA) en verantwoordelik vir oudits en ondersoeke van aankoopbedrog. AngloGold Ashanti is (volgens hulle webwerf) die derde grootste goudmynmaatskappy in die wêreld, met 14 bedrywighede in nege lande (Anglogoldashanti 2019). ’n Eenvoudige ewekansige steekproef van 25 deelnemers is in die aanvangsfase van die navorsing geneem uit ’n populasie van 60 ondersoekers by AGA. Semigestruktureerde onderhoude is gevoer met die ondersoekers/ouditeurs wat verantwoordelik is vir die ondersoek na aankoopbedrog en die funksie wat gemoeid is met interne kontroles by AGA se mynbedrywighede in Suid-Afrika, die res van Afrika, die Amerikas en Australië. Goedkeuring om hierdie studie uit te voer is by AGA verkry.

 

3. Definisies

Korrupsie is die misbruik van toevertroude mag vir persoonlike gewin of tot voordeel van ’n groep waaraan die dader trou verskuldig is (Quinot 2013; Williams en Alan, 2000:55). 

Joubert (2013:178) omskryf bedrog as ’n menslike waagstuk wat bedrog, vasbeslote opset, ’n brandende begeerte, die gevaar van gevangeneming, die misbruik van vertroue en rasionalisering behels.

Gelinas, Dull en Wheeler (2012:228) omskryf interne kontroles as ’n proses om die bestuur redelik gerus te stel oor prestasiedoelwitte in die volgende kategorieë: die effektiwiteit en doeltreffendheid van werksaamhede, die betroubaarheid van die finansiële verslagdoening en die nakoming van toepaslike wette en regulasies. 

Wanvoorstelling is volgens Burchell (2013:724) die wek van ’n valse indruk wat tot gevolg het dat ’n persoon of ’n instelling weens onjuiste inligting tot sy eie nadeel handel.

Aankoop (Purchase) word in die Concise Oxford English Dictionary (2008:1145) beskryf as “the process of acquiring services or products”.

Aankoopbedrog kan omskryf word aan die aanbieding, oorhandiging of poging tot die verkryging van enigiets waardevols ten einde ’n sakebesluit te beïnvloed (Institute for Certified Fraud Examiners, 2010:701).

’n Aankoopsiklus is die reeks stadiums van en gebeure in verkryging deur mededingende tenders (DelVecchio 2019; Arrowsmith, Linarelli en Wallace 2000:137).

Rooi vlae is verklikkers, aanduidings of waarskuwings dat iets fout is, en dat nadere ondersoek ingestel moet word om bedrog vas te stel (Cascarino 2013:188).

 

4. Ondersoeke deur nieregeringsinstellings en die Suid-Afrikaanse Polisiediens

Sennewald en Tsukayama (2014:9) is van mening dat daar ’n verskil is tussen private, siviele (niestrafregtelike) en wetstoepassingsondersoeke. Volgens hulle ondersoek wetstoepassingsondersoekers misdaad en nie siviele aangeleenthede nie. Private ondersoekers daarenteen kan misdrywe, oortredings en onreëlmatighede in die werkplek sowel as siviele en private sake ondersoek. Volgens Sennewald en Tsukayama (2014:9) en Travers (2005:4) is die doelwit van sowel niestrafregtelike as strafregtelike ondersoeke in die private sektor om die belange van organisasies te beskerm, terwyl ondersoeke in die openbare sektor daarop gemik is om die belange van die samelewing te beskerm. Volgens Benson, Horne en Jones (2015:5) kry ondersoekers in die private omgewing nie net te doen met onregmatige en laakbare gedrag nie, maar ook met gedrag wat volgens die reg nie as ’n misdryf beskou word nie. Hulle wys egter daarop dat gedrag wat nie as ’n misdaad beskou word nie, ook ondersoek moet word om die oogmerke van die misdaadondersoek te verwesenlik.

In die literatuur word die ondersoek en voorkoming van misdaad as die primêre verantwoordelikheid van die staat beskou. In die Suid-Afrikaanse konteks word die mandaat vir die ondersoek van misdaad in die Grondwet van Suid-Afrika 108 van 1996 en in artikel 215 van die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens 68 van 1995 bespreek. Strafregtelike ondersoeke is in Suid-Afrika ’n statutêre verpligting van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (Suid-Afrika 1996; art. 205 (3) van die betrokke wet). Dit word ook in die literatuur aangedui as die belangrikste verantwoordelikheid van enige polisiediens (Gilbert 2010:34). 

Birzer en Roberson (2012:28), Lochner (2016:43), Lochner, Horne en Zinn (ter perse) en Monckton-Smith, Adams, Hart en Webb (2013:2) meld dat die ondersoek van misdaad die soektog na objektiewe1 en subjektiewe2 leidrade behels. Hierdie soektog moet georganiseerd en sistematies wees om te verseker dat die doelwitte van ’n ondersoek bereik word. In Venter se navorsing weerspieël die volgende die respondente se siening van ’n misdaadondersoek:

  • In ’n misdaadondersoek word probeer om die feite van ’n wederregtelike daad vas te stel.
  • Een respondent het gemeld dat ’n misdaadondersoek wat met ’n forensiese ondersoek gepaard gaan, ’n tegniek is om kriminele aktiwiteite te ondersoek.
  • ’n Ander het genoem dat ’n misdaadondersoek skuld of onskuld probeer bewys.

Volgens die bogenoemde outeurs is die doelwitte van misdaadondersoek om vas te stel óf ’n misdaad gepleeg is, en indien wel, deur wie, en om voldoende objektiewe en subjektiewe getuienis te versamel om die elemente van ’n misdaad te bewys. Die elemente van bedrog wat help om gebeure in die verlede te herkonstrueer, sal later in hierdie artikel bespreek word.

Die geskiedenis van die privaat- en openbare-sake-industrie oor die hele wêreld wemel van wanvoorstellings waardeur die oneerlike betrokkenes onregmatige voordele geniet het. Volgens Nextenders (2016) en Van Rooyen (2004:178) is aankoopbedrog nie ’n nuwe verskynsel nie; dit het egter klandestien geword en kan slegs deur ’n stelselmatige en logiese ondersoek bewys word. Grabosky (1992:97) is van mening dat die gebruik van hierdie metode die sukses van ’n ondersoek na aankoopbedrog verseker. Volgens hom moet ’n sistematiese en logiese ondersoekproses ’n prioriteit wees; en die inligting wat verkry word, moet in die ondersoek na aankoopbedrog gebruik word. Sodanige ondersoeke is daarop gemik om die wanvoorgestelde feite te identifiseer en die onregmatige optrede te ontbloot. Grabosky noem voorts dat hierdie wanvoorstellings geïdentifiseer moet word, en dat die persone wat by hierdie soort optrede betrek word, uitgewys en gearresteer moet word. Nadat hulle deur ’n hof skuldig bevind is, moet hulle ’n gepaste vonnis opgelê word. 

Die metodes en tegnieke wat gebruik word om bedrog te ondersoek, kan in ’n mate ooreenstem met dié wat vir ondersoeke na aankoopbedrog gebruik word, hoewel dit in sekere gevalle moeilik sal wees om te verstaan en toe te pas (Suid-Afrika 1951:393). Ervaring het die outeurs van hierdie artikel geleer dat daar nie vaste reëls vir ondersoeke na aankoopbedrog is nie, hoewel ’n paar algemene reëls gevolg moet word. Die klaer en getuies is die belangrikste rolspelers in die ondersoek. Dokumentasie wat beskou kan word as skriftelike kommunikasie tussen twee of meer persone of die bewys daarvan word gewoonlik as getuienis tydens ’n aankoopbedrogsaak voorgelê (Nordby en Bell 2014:451). Dit is baie belangrik dat dokumentasie korrek versamel, bewaar en hanteer word om kontaminasie te voorkom. Die element van wanvoorstelling word in die dokumentêre bewyse gevind en hierdie dokumente is bewys van die wanvoorgestelde feite (Hopwood, Leiner en Young 2012:149; Van Rooyen 2004:189). Die bewysketting moet dus in stand gehou en die bewyse teen kontaminering beskerm word (Lochner en Zinn 2015:14; Penny 2002:192).

Volgens Venter (2016:76) is die wanvoorstelling van feite in die meeste gevalle die hoofoorsaak van aankoopbedrog. Daarom is dit raadsaam om die beginsels en die invloed van rooi vlae as die wesenselement van wanvoorstelling te ondersoek. Op grond van ons ervaring is ons van mening dat dit noodsaaklik is om rooi vlae vroegtydig te identifiseer, aangesien dit die ondersoeker help om wanvoorgestelde feite proaktief en reaktief raak te sien. Rooi vlae help ook met die voorkoming en ondersoek van aankoopbedrog. Ondersoekers moet egter eers weet wat aankoop- en verwante bedrog behels voordat hulle rooi vlae kan identifiseer.

 

5. Aankoop van kommoditeite en dienste

Bedrog is een van die ernstigste bedreigings vir die sukses van enige organisasie of entiteit. Misplaaste vertroue en ’n ontoereikende indiensnemings- en toesighoudingsbeleid kan ’n goeie teelaarde vir bedrog wees, veral as daar boonop nagelaat word om toereikende interne kontroles in te stel en toe te pas. Goeie interne kontroles is van die belangrikste aspekte van die bestuur van bedrog in ’n organisasie (CPA Australia 2011). Ons gaan kortliks die elemente van bedrog soos dit volgens die reg gedefinieer word, uitlig om die teorie van aankoopbedrog in ooreenstemming te bring met die onregmatige daad van bedrog. Dit is ’n voorvereiste om die elemente van die betrokke misdryf in die hof te kan bewys voordat iemand aan hierdie onregmatige daad skuldig bevind kan word. Die vyf elemente van bedrog is benadeling, wanvoorstelling, wederregtelikheid, kousaliteit en opset (Albrecht, Albrecht, Albrecht en Zimbelman 2015:665; Burchell 2013:724; Joubert 2013:166).

Voordat die konsep van aankoopbedrog aandag geniet, word die betekenis van die term aankoop verken. Melton (2008:170) noem dat die proses om kommoditeite en/of dienste van ’n leweransier/verskaffer/verkoper via die aankoopproses te bekom, as die aankoopfunksie (supply chain function) bekend staan. Die gewenste en mees koste-effektiewe kommoditeite en/of dienste word aangekoop ooreenkomstig die koper se vereiste ten opsigte van kwaliteit, kwantiteit, tyd en plek. Maatskappye en openbare entiteite streef gewoonlik na ’n onpartydige en deursigtige mededingingsproses om die voorkoms van bedrog te verminder (Melton 2008:170). ’n Entiteit se aankoopdepartement/-funksie reguleer sakeprosesse deur kommoditeite en/of dienste te verkry om die organisasie se doelwitte te bereik. Die aankoopfunksie wat verrig word sluit al die werknemers in die aankoopdepartement in wat die kern van die aankoopketting is3 (Turner 2011:3; Sollish en Semanik 2012:1). Respondente in Venter se navorsing het te kenne gegee dat aankoopproses bestaan uit die identifisering van die nut van ’n diens of produk, en dan die doen van die nodige stappe om die geïdentifiseerde diens en/of produk van ’n eksterne bron/maatskappy te bekom.

Uit die literatuurstudie het die skrywers van hierdie artikel te wete gekom dat sekere aktiwiteite plaasvind om goedere en/of dienste in die aankoopsdomein te bekom. Die aankoop- of verkrygingsfunksie is van die uiterste belang om ’n projek of besigheid in stand en operasioneel te hou. Hierdie aktiwiteite vorm ’n metodiese siklus wat die aankoopsiklus genoem word. Arrowsmith e.a. (2000:137) voer aan dat die aankoopsiklus uit fases bestaan wat deur ’n mededingende tender-/bodproses materialiseer. Skrywers verskil oor die aantal fases in die aankoopsiklus. Volgens Panneerselvam en Senthilkumar (2009:241) en Wiggins (2010:176) bestaan hierdie siklus uit tien fases.

 

6. Aankoopbedrog

Aankoopbedrog is ’n bepaalde soort bedrog waardeur onregmatig baat gevind word by misdadige optrede en die omseiling van ’n verpligte aspek of optrede wat die organisasie skade berokken. Volgens Olaniyi en Mojisola (2016:9) sluit diegene wat aankoopbedrog pleeg, die personeel van ’n organisasie, eienaars, raadslede, staatsamptenare of die verskaffers van goedere of dienste in. 

Aankoopbedrog is die wanvoorstelling en verdoeseling van feite om persoonlik daarby baat te vind. Die wanvoorstelling en verdoeseling van feite sal slaag indien daar nie ’n toereikende interne kontrolestelsel is nie. Bologna en Shaw (1997:11) voer aan dat aankoopbedrog doelbewuste misleiding is deur geheimhouding of uitgeslapenheid. Misdadige optrede soos omkopery, vervalsing, korrupsie, diefstal, verduistering, wanbesteding, wanvoorstelling, die verdoeseling van wesenlike feite en sameswering kan gesien word as aankoopbedrog. Hill (2010:1) en Murray (2014:9) is van mening dat aankoopbedrog ’n duistere, onopsigtelike en verborge misdryf is. Olsen (2010:111) skryf dat aankoopbedrog ’n tipe kommersiële bedrog is wat die onopvallendste maar tog die algemeenste en duurste is. Caulfield (2014:1) stem daarmee saam en sê dat bedrog in die aankoopsdomein só ontwikkel het dat dit al hoe komplekser en tegnologiegedrewe geword het. Die ontstellende aspek van bedrog in die aankoopdomein is die skade wat dit aan die vertroue van werknemers, klante/kliënte en belanghebbers berokken. In Venter se navorsing het respondente te kenne gegee dat dit uiters moeilik is om die elemente van bedrog in die aankoopproses te bewys as gevolg van die sameswering (collusion) tussen die persone wat vir aankope verantwoordelik is, en die persone van entiteite waar aankope gedoen word.

Murray (2014:9) wys daarop dat aankoopbedrog lank onopgemerk bly. Dit is dus van kritieke belang dat ondersoekers en ouditeurs waaksaam moet wees, en dat daar interne kontroles in die aankoopdomein moet bestaan. Murray (2014:9) glo ook dat dit ’n baie moeisame en tydrowende proses is om aankoopbedrog waar te neem, aangesien dit ’n klandestiene daad is. Daarbenewens bestaan min bewyse van hierdie onregmatige daad (omdat die dokumentspoor gewoonlik uitgewis word). Daarom is streng interne kontroles nodig om die oortreders te identifiseer. Die konsepte risiko en interne kontroles sal ondersoek word om duidelik te maak wat dit in hierdie artikel behels.

 

7. Risiko en interne kontroles

Bedrog, korrupsie en verduistering pas by die definisie van ’n risiko. ’n Risiko is die waarskynlikheid of die vermoede dat iets sal gebeur wat sal verhoed dat ’n organisasie sy doelwitte bereik (Collier en Agyei-Ampomah 2005:108; Gray en Manson 2008:212). Peterson (2012:16) en Smuts en Smuts (1992:133) redeneer dat ’n risiko die geleentheid vir verlies en/of vernietiging skep. 

Manacorda, Centonze en Forti (2014:285) en Simkin, Norman en Rose (2014:395) is van mening dat maatskappye die verantwoordelikheid het om hul bates te beskerm en te verseker dat hulle doeltreffend oor hul interne kontroles verslag kan doen. Volgens Bologna en Shaw (1997:189) is ’n standaard vir internekontroledekking in ondernemings deur die General Accounting Office (GAO) en die Committee of Sponsoring Organizations (COSO) van die Treadwaykommissie daargestel. Hierdie omvattende ooreenkoms sluit die COSO-klassifikasie van ’n interne kontrole in, asook ’n standaard waarteen organisasies die doeltreffendheid van hul interne kontroles kan meet.

Volgens Albrecht e.a. (2015:77) en Giles (2012:20–21) heers daar ’n siening dat dit die verantwoordelikheid van die interne ouditeurs van ’n maatskappy is om bedrog uit te wys en te voorkom. Volgens bogenoemde skrywers is daar ouditeurs wat soms nie besef hoe belangrik hul rol in die bestryding van bedrog is nie. Hulle maak steeds staat op ’n uitgediende ouditmetodologie wat ondoeltreffend is om bedrogrisiko’s die hoof te bied. ’n Praktiese voorbeeld hiervan is toe die eksterne ouditeure van KPMG in 2018 versuim het om ongerymdhede in die Gupta-entiteit se finansiële state te openbaar (Quintal 2018).

Dormán, Görgényi en Horváth (2013:201) en Hopwood e.a. (2012:50) voer aan dat interne kontroles, net soos hulle ’n maatskappy help om sy gestelde oogmerke en doelwitte te bereik, ook noodsaaklik is om bedrog te voorkom en op te spoor. In die Foreign Corrupt Practices Act (FCPA)4 en die Sarbanes-Oxley Act (SOX)5 is interne kontrole die sleutelelemente. Die hoof- finansiële beampte (HFO) en hoof- uitvoerende beampte (HUB) van private instellings word ingevolge die FCPA en SOX aanspreeklik gehou vir swak internebeheerprosesse. Hierdie aanspreeklikheid geld ook vir Suid-Afrikaanse maatskappye indien hulle op die VSA se sekuriteitebeurs genoteer is.

Cascarino (2013:103) en Hopwood e.a. (2012:51) brei uit op die standpunte van die skrywers wat in die vorige paragraaf verduidelik is, en voer aan dat interne kontroles met prosesse gemoeid is en as sodanig op die praktyke van die bestuur van die maatskappy fokus. Bogenoemde skrywers is ook van mening dat interne kontroles uit gestruktureerde beleide en prosedures bestaan met die doel om toe te sien dat die doelwitte van die organisasie verwesenlik word, hulpbronne doeltreffend benut word, en wette en regulasies nagekom word.

Interne kontroles is beleide en prosedures wat bates beveilig, akkurate en betroubare finansiële verslagdoening waarborg, ingestel is op die nakoming van wette en regulasies, en vir tasbare en bekwame bedrywighede sorg (CPA Australia 2011). ’n Gebrek aan interne kontroles is bevorderlik vir bedrog (Gottschalk 2010:33; McKinney 2015:569). Ondernemings met ondoeltreffende interne kontroles is bestem vir bedrog; daarom die noodsaaklikheid van kontroles om bedrog, wat omkopery, korrupsie en aankoopbedrog insluit, te voorkom en op te spoor. Die afwesigheid van interne kontroles of doeltreffende interne kontroles in die aankoopsdomein veroorsaak ernstige probleme (OECD 2007). 

Lynford (2008:205) en Singleton, Singleton, Bologna en Lindquist (2006:89–90) stem saam met die siening van Bologna en Shaw (1997:178), en voer aan dat die oogmerk van doeltreffende interne kontroles is om onregmatige optrede te voorkom en op te spoor, wat ’n aanduiding van organisatoriese noulettendheid is. Organisatoriese noulettendheid behels dat die organisasie se werknemers en agente/kontrakteurs die organisasie se standaarde en prosedures moet nakom. Hierdie standaarde en prosedures moet met al die betrokke persone bespreek word. Die senior bestuur moet ’n oorsigrol in die nakoming van standaarde en prosedures hê. Diskresionêre gesag moet selektief toegewys word, en nie aan persone wat tot onregmatige bedrywighede geneig is nie. Monitering- en ouditstelsels moet toegepas word om misdadige gedrag by die organisasie se werknemers en agente op te spoor. Die respondente in Venter se navorsing wys daarop dat interne kontroles prosesse en prosedure insluit wat die bestuur van ’n entiteit geïmplementeer het om seker te maak dat risiko’s (wat die maatskappy bedreig) nie materialiseer nie. Van die respondente het verder uitgewei oor die onderwerp en laat blyk dat interne kontroles juis ingestel word om risiko’s te beheer. 

Die genoemde standaarde behoort afgedwing te word deur die toepaslike dissiplinemeganismes van die maatskappy, wat kan beteken dat die persoon of persone wat die onregmatige daad gepleeg het, gedissiplineer word. Dissiplinering kan strafregtelike verhaling en vervolging insluit. Sodra ’n onreëlmatigheid, oortreding en/of misdryf ontdek is, moet gepaste stappe gedoen word om te verhoed dat misdrywe van hierdie aard in die toekoms sal voorkom (Lynford 2008:205).

 

8. Die hulp van interne kontroles om aankoopbedrog te voorkom

Cascarino (2013:102) en Dawson (2015:89–90) is van mening dat effektiewe interne kontroles verpligtend is om te verseker dat die aankoopfunksie tydens die uitvoering van projekte en daaglikse bedryfsvereistes reg verloop. Die genoemde skrywers beweer verder dat interne kontroles vorige ooreenkomste onderskryf wat die onderskeie partye in die aankoopsproses aangegaan het. Doeltreffende interne kontroles verseker dat daar by die prosedures gehou word. Lynford (2008:205) is van mening dat interne kontroles waarborg dat die prosesse en prosedures gevolg en die risiko van bedrog tot die minimum beperk word.

Bologna en Shaw (1997:196) en Collier en Agyei-Ampomah (2005:103) noem dat die oogmerk met die hersiening van interne kontroles is om as hulpmiddel te dien vir die direksie, kontrakbeamptes en reguleerders wanneer bestuurstate geëvalueer word. Stamler, Marschdorf en Possamai (2014:71–2) verduidelik dat ouditeurs in die verlede twee benaderings gevolg het om bedrog in die aankoopsdomein te hanteer. Die ouditeurs sou eerstens soek na bedrog in die aankoopproses deur die interne kontroles te toets om te kyk of daar rooi vlae is, en tweedens sou die ouditeurs aandag gee aan bewerings van aankoopbedrog wat telefonies en anoniem gemaak is. 

Hussain (2014:26) en Spencer-Pickett (2010:520) redeneer dat interne kontroles aankoopbedrog doeltreffend kan opspoor net indien dit gereeld geëvalueer word en die bedrogrisiko’s daarna bygewerk word. Bedrog in maatskappye word nie net deur gebrekkige interne kontroles veroorsaak nie, aangesien daar geen waterdigte kontrolestelsel is wat bedrog kan voorkom nie (Hussain 2014:26; Spencer-Pickett 2010:520). Die respondente in Venter se navorsing is dit eens met hierdie outeurs, en het te kenne gegee dat effektiewe interne kontroles sal help om bedrog in die aankoopproses te verhoed. Een respondent was van mening dat interne kontroles geen nut het en as dit nie reg bestuur word nie, omdat bedrog dan steeds gepleeg kan word. In aansluiting hierby het respondente ook aangedui dat interne kontroles gesien kan word as ’n afskrikmiddel vir individue wat bedrog wil pleeg.

Ouditeurs se taak is om seker te maak dat ’n organisasie wetgewing en regulasies nakom. Oudits word gedoen om die voorskrywende agentskap en belanghebbers gerus te stel dat die organisasie die tersaaklike wette nakom (Basu 2006:41; Bologna en Shaw 1997:196). Faktore wat ’n effek kan hê op die doeltreffendheid van die kontroles word volgende bespreek.

 

9. Faktore wat die doeltreffendheid van interne kontroles kan beïnvloed

Die skrywers van hierdie artikel is in die lig van die literatuurstudie van mening dat drie faktore die doeltreffendheid van interne kontroles kan beïnvloed. Dié faktore is die voorkoms van bedrog, die afwesigheid van interne kontroles, en die manipulering van interne kontroles. Giles (2012:26) en Pfister (2009:5–6) voer aan dat direkteure en bestuurders twee sentrale vrae oor interne kontroles moet vra en bespreek. Die eerste vraag is of die ontwerp van die interne kontrole effektief is met inagneming van die feit dat hoe hoër die risiko is, hoe sterker moet die kontrole-ontwerp wees. Die tweede vraag hou verband met die doeltreffendheid van die kontroles en of dit werk soos die aanvanklike ontwerp veronderstel was om te werk. Ons weet uit ervaring dat selfs as 'n kontrole of prosedure as 'n prosedure of beleid gedokumenteer is, dit nie vanselfsprekend elke dag in die praktyk nagekom word nie.

In aansluiting by die evaluering van die bronne in die vorige paragraaf noem Loughran (2010:77) en Stamler e.a. (2014:257) dat die voorkoms van bedrog gewoonlik met swak interne kontroles geassosieer word. Indien werknemers nie interne kontroles volg en daarby hou nie, sal selfs die beste interne kontroles niks beteken nie. Indien ’n organisasie se bestuur die interne kontroles afdwing en dit gereeld nagaan om die effektiwiteit daarvan te bepaal, behoort die internekontroleraamwerk bedrog te voorkom.

In die konteks van aankoopbedrog beweer Graham (2008:206–7) en Pedneault, Rudewicz, Silverstone en Sheetz (2012:99) dat toereikende en doeltreffende interne kontroles sal waarborg dat transaksies en prosesse in die aankoopproses behoorlik gemagtig en akkuraat opgeteken word. Effektiwiteit word ’n probleem wanneer daar nie doeltreffende interne kontroles is nie of as dit vatbaar vir manipulering is. Goeie interne kontroles sal bedrog verminder en die blootstelling aan risiko tot die minimum beperk (CPA Australia 2011). Die respondente in Venter se navorsing sluit aan by voorgenoemde outeurs, en is dit eens dat interne kontroles in die aankoopproses ’n noodsaaklikheid is omdat dit sal verseker dat die nodige gedokumenteerde beleid en prosedures bestaan om die aankoopproses effektief te bestuur. Die respondente het die volgende motiewe vir hulle siening verskaf:

  • Sonder effektiewe beleide en prosedures (gedokumenteer en goedgekeur deur die bestuur) kan die skeiding van die pligte van werknemers in gedrang kom. Dit kan lei tot sameswering tussen ’n maatskappywerknemer en werknemers van verskaffers.
  • Goeie bestuursbeleide, soos belangekonflikverklarings, ’n etiese sakekode, ’n gedragskode en die delegering van gesag, word gesien as interne kontroles wat nodig is vir etiese sakepraktyke en die afskrik van bedrog.
  • Effektiewe sisteme (hoe die aankoopproses hanteer moet word) maak ouditbewyse vir eksaminering en ondersoek moontlik.

 

10. Taksering van interne kontroles om bedrogrisiko’s in die aankoopsiklus te identifiseer 

Daar behoort ’n protokol ontwikkel en gebruik te word om die risiko’s van bedrog te voorkom en raak te sien (Biegelman en Bartow 2012:97). Volgens Graham (2015:2) en Warren, Reeve en Duchac (2014:322) verskaf die Internal Control – Integrated Framework van 2013 die riglyne daarvoor. Hierdie raamwerk is ontwerp om interne kontroles en die standaard van die taksering van interne kontroles te klassifiseer en te verduidelik. 

10.1 Die komponente van ’n internekontrolestelsel

Graham (2015:3), Pedneault e.a. (2012:99) en Warren e.a. (2014:322–323) noem vyf komponente van ’n doeltreffende internekontrolestelsel. Hierdie komponente word hier onder bespreek.

  • Werknemers met integriteit en etiese waardes wat bevoeg is, en ’n bestuur met ’n goeie filosofie en bedryfsmetodes is ’n aanduiding van ’n omgewing waar goeie interne kontroles toegepas word. ’n Bestuur wat gesag delegeer en die verantwoordelikheid vir die organisering en ontwikkeling van werknemers aanvaar, asook ’n direksie wat aandag en rigting gee, dra by tot ’n doeltreffende kontrolestelsel.
  • Risiko-evaluering gaan gepaard met die identifisering en ontleding van risiko’s. Dit vorm ook die basis van besluite oor hoe om risiko’s te bestuur, wat ’n belangrike komponent van ’n doeltreffende kontrole-omgewing is.
  • Beleide en prosedures bestaan uit kontrole-aktiwiteite waardeur toegesien word dat die bestuur se opdragte nagekom word. Goedkeurings, magtigings, verifiërings, rekonsiliasies, die nagaan van bedryfsprestasie, batebeveiliging en die skeiding van pligte word as kontrole-aktiwiteite beskou.
  • In ’n doeltreffende kontrole-omgewing word inligting en data behoorlik gekommunikeer. Dit sluit in inligting oor eksterne gebeure en duidelike kommunikasie deur die bestuur.
  • Die laaste komponent van ’n doeltreffende kontrole-omgewing het te doen met die evaluering van die prestasie wat die internekontrolestelsel oor ’n tydperk gelewer het.

Noudat die komponente van ’n internekontrolestelsel bespreek is, is dit belangrik om na die doelstellings van hierdie stelsel te kyk.

10.2 Doelstellings van interne kontroles

Die rede waarom interne kontroles geëvalueer moet word, is om die effektiwiteit van die stelsel te bepaal. Vir interne kontroles, wat voorkomende en voorsorgmaatreëls is, word ’n passiewe tegniek gebruik om te bevestig dat daar aan die kontroles gehoor gegee is. Die doel van die ontwerp van die passiewe tegniek is om die voorkoms van bedrogverwante risiko’s saam te vat. Deur interne kontroles te gebruik, word toegesien dat gewenste of voorgeskrewe aksies uitgevoer is, en dit lig die voorkoms van niestandaardgebeure uit. Die tweede doelstelling met die taksering van interne kontroles is om probleme uit te wys. Hulpmiddels, tegnieke en prosedures word gebruik om risiko’s en die voorkoms van bedrog uit te wys. Die derde doelstelling van interne kontroles is om regstellende kontroles in te stel, dit wil sê hulpmiddels, tegnieke en prosedures om die voorkoms van bedrog of die risiko daarvan te voorkom of reg te stel (Cendrowski, Petro en Martin 2007:136; Dawson 2015:49–50; Hall 2011:17).

10.3 Faktore wat die effektiwiteit van interne kontroles beperk

Johnstone, Gramling en Rittenberg (2014:171) en Turner en Weickgenannt (2009:101) redeneer dat daar geen absolute waarborg is dat interne kontroles die risiko van bedrog kan verminder nie. Hierdie bronne dui verder aan dat die inherente beperkings van interne kontroles aan die volgende faktore toegeskryf kan word:

  • inkonsekwente besluite oor sakedoelwitte
  • menslike foute, byvoorbeeld ’n tik- of rekenfout
  • interne kontroles wat geïgnoreer of omseil word
  • die hoë koste om kontroles te implementeer
  • werknemers wat met eksterne partye saamsweer
  • ’n bestuur wat kontroles verontagsaam wanneer besluite geneem word wat strydig met beleid en prosedures is
  • kontroleprosedures wat nie behoorlik toegepas word nie.

 

11. Die doel van doeltreffende interne kontroles in die aankoopsiklus

Dinapoli (2010) voer aan dat doeltreffende interne kontroles in die aankoopproses verseker dat fondse nie wanbestee word nie. Ontoelaatbare aankope word deur doeltreffende interne kontroles in die aankoopsiklus voorkom, en dit verseker ook billike mededinging in die aankoopsdomein. Die tabel hier onder bevat ’n beskrywing van interne kontroles en hul onderskeie doelstellings in die aankoopsiklus volgens Dinapoli (2010), Olsen (2010:119) en Pedneault e.a. (2012:99).

Tabel 1. Interne kontroles en hul onderskeie doelstellings in die aankoopsiklus 

Interne kontrole

Doelstelling

Voordat aankope gedoen word, moet duidelike gesagslyne daargestel word om die aankope goed te keur.

Om te waarborg dat goedkeuring verkry en die koste geëvalueer word.

Daar moet eers bevestig word dat fondse beskikbaar is voordat magtiging vir groot aankope gegee word.

Om te verseker dat fondse beskikbaar is en dat die begroting nie oorskry word nie.

Aankope moet goedgekeur word deur iemand anders as die persoon wat die aankope aangevra het.

Om te verseker dat die goedkeuringsfunksie geskei word sodat daar minder geleentheid is om bedrog met transaksies of in enige ander opsig gepleeg kan word.

Aankoopversoeke en aankoopbestellings moet spesifieke kriteria bevat vir die items of dienste wat verkry moet word.

Om ’n ouditspoor van die aankoopproses te verseker.

Aankoopdokumente moet in volgorde genommer word.

Om te verseker dat die spoor van bestellings gevolg kan word.

 

Kopieë van die aankoopdokumente moet na die ontvangs-en–rekening-departement gestuur word as kennisgewing van die aankope.

Om die kommunikasie oor aankope te vereenvoudig.

Alle uitstaande bestellings moet voor die einde van die fiskale jaar nagegaan word.

Om te verseker dat die bestelde goedere en dienste wel gelewer word.

Sodra goedere van verskaffers ontvang is, moet die ontvangs- en verpakkingsnotas met die gelewerde items vergelyk word.

Om te verseker dat die ontvangde goedere en dienste dié is wat op die aanvraag- of aankoopdokumente aangedui word.

 

In die lig van die genoemde feite word aangevoer dat interne kontroles in die tenderfase baie belangrik is. Dit is egter net so noodsaaklik om die toereikendheid van hierdie kontroles te takseer. Dit word hier onder bespreek.

 

12. Taksering van interne kontroles – die tenderfase 

Wiggins (2010:176) noem fase sewe in die aankoopsiklus die tenderfase. Hy beskryf dit as die fase waarin die tender van ’n voornemende tenderaar geëvalueer en geassesseer word. Hy voeg by dat die kommersiële en tegniese aspekte van die ingediende tenders nagegaan word op grond van die pryse en die tegniese vermoë van die verskaffers wat getender het. Hoewel daar verskeie fases in die aankoopsiklus is, fokus ons hier slegs op die tenderfase en die gepaardgaande taksering van interne kontroles, omdat Venter (2016:38–9) bevind het dat dit die fase is waarin aankoopbedrog die meeste plaasvind. Volgens Cascarino (2013:95) kan die interne kontroles vir die toekenning van kontrakte in sommige gevalle geklassifiseer word as sterk, swak of afwesig. Hy voeg by dat bevestiging dat goedere en dienste van die gewenste kwaliteit en kwantiteit teen die laagste koste verkry is, die belangrikste doelwit van die taksering van interne kontroles in die tenderfase is. ’n Voorbeeld van hoe hierdie doelstelling nie bereik is nie, is toe die Tegetamyne laegraadsteenkool (nie die verlangde kwaliteit nie) aan Eskom verskaf het omdat die fases in die aankoopsiklus nie gevolg is nie.

Giles (2012:51) en Stamler e.a. (2014:257) is van mening dat die daaropvolgende interne kontroles in die tenderfase getakseer moet word om te verseker dat dit toereikend is om moontlike bedrog en korrupsie uit te wys. Hulle stel dit soos volg:

  • Evalueer of daar vooraf ’n minimumwaarde vir ’n aankoop gestel is. Dit sal aandui of daar met ’n tenderproses begin moet word. Daar moet met ’n tenderproses begin word vir alle aankope van hoër as R100 000. Die doel van hierdie kontrole is om toe te sien dat prosesse gevolg is, sodat mededinging regverdig geskied en daar eerlik meegeding word om kommoditeite en dienste van die beste gehalte teen die laagste prys te lewer. Hierdie assessering bevestig ook dat die tenderproses inderdaad mededingend was. ’n Tenderproses is ’n skans teen begunstiging, uitspattige besteding en bedrog, en bied aan verskaffers wat in die tender belangstel, ’n billike en gelyke geleentheid om in die ope mark mee te ding.
  • Evalueer beleid en prosedures vir die aankoop van goedere en dienste om te bevestig dat die entiteit prosesse daargestel het om te stipuleer watter aankope nie deur die tenderproses hoef te gaan nie. Die doelwit van hierdie kontrole is om te verseker dat verskaffers wat in die tender belangstel, op ’n billike en kostedoeltreffende wyse laer as die gestelde tenderdrempels vir die aankoop van goedere en dienste tender.

Die empiriese data van Venter (2016:70) toon onomwonde dat interne kontroles geassesseer moet word om die moontlikheid van bedrog gedurende die tenderfase aan te toon. Dawson (2015:89–90), Shackell, Ingram en Hall (2014) en Stamler e.a. (2014:257) voer aan dat evaluering nodig is om te sertifiseer dat ’n doeltreffende internekontrolestelsel in die tenderfase toegepas word. Die geldigheid van die volgende interne kontroles moet bepaal word:

  • Die samestelling van ’n tenderpaneel (wat bestaan uit lede van die gebruikerdepartement, die aankopedepartement en enige spesialis- of tegniese departement) om vooraf die waardasiestandaarde te bepaal en te besluit aan watter verskaffer of diensleweraar die tender toegeken sal word.
  • Die metode waarvolgens verskaffers in kennis gestel of gevra word om te tender, byvoorbeeld in ’n koerantadvertensie, en die inhoud van die advertensie ten opsigte van die produk-, artikel- of diensspesifikasies wat gelewer moet word. Daar moet bevestig word dat al die tenderaars presies dieselfde inligting oor die vereiste produk of diens ontvang het.
  • Die metode waarvolgens tendervoorstelle ingedien word (in duplikaat en in verseëlde koeverte) en die kontrole om die tenders voor en ná die sperdatum vir die indiening te beveilig voordat dit deur die paneel geassesseer word. Minstens twee personeellede moet die tenders onmiddellik nadat die spertyd vir indiening verstryk het, oopmaak. Die duplikaatafskrifte van die tenders moet vir toekomstige verifiëring geliasseer word.

Benewens die voorgenoemde interne kontroles, moet die verifiëring van die aanvaarding van laat tenders (wat in die reël nie moet gebeur nie) bespreek word; asook of die paneel laat tenders sal goedkeur en die regverdiging daarvoor (ICAC 2014). Guess en Farnham (2011:113–4) en Shackell e.a. (2014), redeneer dat – vanuit ’n administratiewe en kontraktuele oogpunt – die volgende interne kontroles in die tenderfase ook geëvalueer moet word: 

  • Indien daar ’n reg-om-te-oudit-klousule is, moet dit in die onderhandelde kontrakte gespesifiseer word.
  • Verskaffers en personeel moet ingelig word oor die kontrakterende organisasie se beleid oor die gedragskode, geskenke en onthale, en belangebotsings.
  • Die nakoming van die magtigingsvlakke vir die aankoop van goedere en dienste moet geassesseer word.
  • Die keuringsprosesse van voornemende verskaffers moet geëvalueer word.
  • Die toepaslikheid van die skeiding van pligte tussen die instandhouding van die meesterdatalêer van die verskaffer, aankoopmagtigings, die verwerking van fakture, rekeningkundige en bankrekonsiliasieprosesse moet geëvalueer word.

Doody (2008) en Guile (2015) fokus meer op die bestuursaspekte van interne kontroles en wys daarop dat die volgende administratiewe punte geëvalueer moet word: 

  • Bevestig die bestaan van ’n voordelige verhouding tussen die tenderaars deur die tenderlyste na te gaan.
  • Verifieer of ’n tenderprosedure opgestel en in werking gestel is, en of hierdie proses gevolg is.
  • Verifieer die uitsluiting van maatskappye wat gedurig nalaat om te tender.
  • Gaan na of mededingende tendergedrag omseil is deurdat enkele bronne/verskaffers oormatig gebruik is.
  • Bevestig dat enige tekens van tenderknoeiery onder die tenderraad se aandag gebring is.

Na die bespreking van die taksering van interne kontroles om bedrogrisiko’s in die tenderfase uit te wys, word die noodsaaklikheid dat interne kontroles gereeld geassesseer word, in die volgende afdeling bespreek.

 

13. Die noodsaaklikheid dat interne kontroles gereeld geassesseer word

’n Organisasie moet voorsorg tref deur monitering- en ouditingstelsels te gebruik om misdadige gedrag en onreëlmatighede, soos die nienakoming van beleid en prosedures deur sy werknemers en belanghebbers, uit te wys (Harrison en St. John 2014:165; Needles, Powers en Crosson 2014:303).

Ons stem met die genoemde bronne saam, maar het deur ervaring geleer dat organisasies sporadies oudits doen om te bepaal of prosedures en beleid nagekom is, dit wil sê, om te verifieer dat interne kontroles nagekom is. Dormán e.a. (2013:201) en Kass-Shraibman en Sampath (2011:299–301) skryf dat dit noodsaaklik is om interne kontroles gereeld te assesseer. Die funksie van interne kontroles is om ’n organisasie te bestuur en sluit reëls, prosedures en praktiese metodes in, en maak deel uit van die organisasiestruktuur. Benewens die assessering van interne kontroles, is dit nodig om ’n gekontroleerde sake-omgewing te skep om die implementering van beleid en prosedures te verbeter, en om interne kontroles te takseer (CPA Australia 2011). 

Nadat interne kontroles ingestel is, moet die effektiwiteit daarvan ondersoek word om toe te sien dat die doelstellings daarvan verwesenlik word. Die bestuur en toesighouers moet die kontroles deurlopend monitor om die ontwerp, prestasie en doeltreffendheid van die kontroles te ondersoek en uit te brei. Die prestasie van interne kontroles word gemonitor deur hierdie kontroles te takseer (CPA Australia 2011). Empiriese data uit Venter se navorsing toon dat gereelde assessering van interne kontroles om die volgende redes belangrik is: 

  • Om te verseker dat interne kontroles effektief funksioneer en dat dit nie omseil word nie.
  • Om areas te identifiseer wat blootgestel is aan risiko’s, areas waar ondoeltreffende kontroles verwyder kan word, asook areas waar beste praktyk geïmplementeer moet word om die aankoopproses te verbeter.
  • Om te bevestig of daar enige veranderinge in die kontrole-omgewing was, asook om te verseker dat die kontroles nog effektief is en om die verandering, soos genoem, aan te pak.

 

14. Gevolgtrekking

Aankoopbedrog gedurende die tenderfase in die aankoopsiklus het ’n beduidende negatiewe impak op sake-entiteite, nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd. Dit is uiters belangrik dat die ouditondersoekgemeenskap hul pogings konsolideer om oortreders in aankoopbedrogondersoeke te identifiseer, en deurlopend daarna streef om die internekontrole-omgewing te verbeter.

Die doelwitte van interne kontroles is om die risiko’s vir sakeondernemings te verminder en om hulpbronne te beskerm; kommersiële inligting te verifieer; wette en regulasies te laat ooreenstem; en bedrog te ontdek en te voorkom. Die doelwit van interne kontroles gedurende die tenderfase is om te verseker dat ’n ondubbelsinnige proses gevolg word tydens die aankoop van die goedere en/of dienste van die gewenste gehalte en hoeveelheid teen die laagste koste.

Daar is aangedui dat interne kontroles ’n sleutelelement van die Foreign Corrupt Practices Act (FCPA) van 1977 en die Sarbanes-Oxley Act (SOX) van 2002 is. ’n Hoof- uitvoerende beampte en ’n hoof- finansiële beampte kan regtens aanspreeklik gehou word vir swak internebeheerprosesse. Dit is van die uiterste belang dat interne kontroles in die aankoopsiklus gereeld hersien word ten opsigte van die nakoming van beleid en prosedure om te verseker dat hulle effektief is en aankoopbedrog voorkom. 

Op grond van hulle literatuurstudie en empiriese bewyse het ons aangetoon dat interne kontroles uit ’n duidelike beleid, prosedures en riglyne, behoorlike rekordhouding, inligtingsekuriteit en toesighouding deur bestuurders bestaan. Die metode waarvolgens goedere en dienste aangekoop en ’n tender uitgevoer moet word, maak ook deel daarvan uit. Doeltreffende interne kontroles waarborg dat prosedures gehandhaaf en nougeset nagekom word. Daar is gemeld dat doeltreffende interne kontroles as afskrikmiddel dien en dus aankoopbedrog voorkom.

Ten slotte het ons aangetoon dat sakerisiko’s geïdentifiseer moet word. Interne kontroles is onontbeerlik om sakerisiko’s in die aankoopsiklus te verminder en te verseker dat ’n toereikende beleid en prosedure in aankoopprosesse gehandhaaf word. Maatskappye wat nie hulle sakerisiko’s identifiseer nie, en nalaat om doeltreffende interne kontroles te implementeer, is vatbaar vir bedrog. ’n Gebrek aan die regte beleid en prosedures kan die skeiding van werknemers se pligte in gevaar stel, en kan tot samespanning lei. Behoorlike stelsels is geïdentifiseer, insluitend hoe om die aankoopproses te onderneem en die ondersoek van ouditbewyse moontlik te maak.

 

15. Aanbevelings 

Die doel van hierdie artikel is om daarop te wys dat bedrog in die aankoopsiklus gepleeg word wanneer interne kontroles omseil word of ’n internekontrolestelsel ondoeltreffend is. Dit is noodsaaklik dat die ouditondersoekgemeenskap voldoende kennis en ’n behoorlike begrip moet hê van die rol wat interne kontroles speel om aankoopbedrog raak te sien, te voorkom en te ondersoek, spesifiek met betrekking tot die tenderfase van die aankoopsiklus. 

Daar word aanbeveel dat maatskappye en/of entiteite seker maak dat hulle ’n behoorlike beleid en prosedures het om die aankoopproses te bestuur. Sodanige beleid, insluitend die metode waarvolgens goedere en dienste verkry en tenders uitgevoer word, moet aan alle werknemers oorgedra word. Sodoende word toegesien dat ondubbelsinnige prosesse gedurende die tenderfase gevolg word. Dit sal as ’n afskrikmiddel teen aankoopbedrog dien. Daarby moet interne kontroles gereeld geassesseer word om seker te maak dat dit met aankoopprosedures strook. Entiteite moet ook ’n risikoregister byhou waarin verskillende sakerisiko’s, insluitend dié wat met die tenderfase verband hou, asook die kontroles om dit te verminder, aangedui word.

 

Bibliografie

Albrecht, W.S., C.O. Albrecht, C.C. Albrecht en M.F. Zimbelman. 2015. Fraud examination. 5de uitgawe. Mason, OH: Cengage Learning.

Anglogoldashanti. Company Overview. 2018. https://www.anglogoldashanti.com/company/overview (7 Mei 2019 geraadpleeg).

Arrowsmith, S., J. Linarelli en D. Wallace. 2000. Regulating public procurement: National and international perspectives. Cambridge, MA: Kluwer Law International.

Basu, S.K. 2006. Auditing: Principles and techniques. New Delhi: Pearson Education.

Benson, B.C., J.S. Horne en G. Jones. 2015. Forensic investigation of crime, regularities and transgressions. In Zinne en Dintwe (reds.) 2015.

Biegelman, M.T. en J.T. Bartow. 2012. Executive roadmap to fraud prevention and internal control: Creating a culture of compliance. Hoboken, NJ: Wiley & Sons.

Birzer, M.L. en C. Roberson. 2012. Introduction to criminal investigation. Boca Raton, FL: Taylor & Francis.

Bologna, J. en P. Shaw. 1997. Corporate crime investigation. Oxford: Butterworth Heinemann.

Burchell, J. 2013. Principles of criminal law. 4de uitgawe. Kaapstad: Juta.

Cascarino, R.E. 2013. Corporate fraud and internal control: A framework for prevention. Hoboken, NJ: Wiley & Sons.

Caulfield, T.O.M. 2014. The anatomy of procurement fraud. Contract Management, 54:52–5.

Cendrowski, H., L.W. Petro en J.P. Martin. 2007. The handbook of fraud deterrence. Hoboken, NJ: Wiley & Sons.

Collier, P.M. en S. Agyei-Ampomah. 2005. Management accounting risk and control strategy. Oxford: CIMA Publishing.

Concise Oxford Dictionary of current English. 2008. 11de uitgawe. Oxford: Clarendon Press.

Creswell, J.W. 2013. Qualitative inquiry en research design. Choosing among five approaches, 3de uitgawe. Londen: Sage.

Dawson, S. 2015. Internal control/anti-fraud program design for the small business: A guide for companies not subjected to the Sarbanes-Oxley Act. Hoboken, NJ: Wiley & Sons.

DelVecchio, L. 2019. The purchasing cycle explained. https://www.purchasecontrol.com/blog/purchasing-cycle (20 Februarie 2020 geraadpleeg).

Dinapoli, T.P. 2010. The practice of internal controls: Local government management guide. Office of the New York State Comptroller. http://www.osc.state.ny.us/localgov/pubs/lgmg/practiceinternalcontrols.pdf (27 April 2014 geraadpleeg).

Doody, H. 2008. Fraud risk management: A guide to good practice. Chartered Institute of Management Accountants. http://www.cimaglobal.com/documents/importeddocuments/cid_techguide_fraud_risk_management_feb09.pdf.pdf (28 April 2014 geraadpleeg).

Dormán, Z.I., G. Görgényi en M. Horváth. 2013. Evaluation of the internal control system at central budgetary institutions. https://www.asz.hu/storage/files/files/Angol_portal/public_finance_quarterly/Archive/2013/a_199_218_dorman_gorgenyi_2013_2.pdf?download=true (27 April 2014 geraadpleeg).

Gelinas, U.J., R.B. Dull en P.R. Wheeler. 2012. Accounting Information Systems. 9de uitgawe. Mason: South Western Cengage Learning.

Gilbert, J.N. 2010. Criminal investigation. 8ste uitgawe. Upper Saddle River, NJ: Pearson Education.

Giles, S. 2012. Managing fraud risk: A practical guide for directors and managers. New Delhi: Thomson Digital.

Gottschalk, P. 2010. White-collar crime: Detection, prevention and strategy in business enterprises. Boca Raton, FL: Universal Publishers.

Grabosky, P.N. 1992. Complex commercial fraud. Canberra: Australian Institute of Criminology. Graham, L. 2008. Internal controls: Guidance for private, government, and non-profit entities. Hoboken, NJ: Wiley en Sons.

—. 2015. Internal control audit and compliance: Documentation and testing under the new COSO framework. Hoboken, NJ: Wiley & Sons.

Gray, I. en S. Manson. 2008. The audit process: Principles, practice and cases. Mason, OH: Cengage Learning.

Guess, G.M. en P.G. Farnham. 2011. Cases in public policy analysis. Washington, DC: Georgetown University Press.

Guile, P. 2015. Procurement fraud. CIPS. https://www.cips.org/Documents/Knowledge/Chapter_12_Guile%20Procurement%20Fraud.pdf (3 September 2015 geraadpleeg).

Hall, J. 2011. Information technology auditing, 3de uitgawe. Mason, OH: Cengage Learning.

Harrison, J. en C. St. John. 2014. Foundations in strategic management. Mason, OH: South Western Cengage Learning.

Hill, S. 2010. Corporate fraud: Prevention and detection. Wilts: Bloomsbury Professional.

Hopwood, W.S., J.J. Leiner en G.R. Young. 2012. Forensic accounting and fraud examination. New York: McGraw-Hill.

Hussain, M. 2014. Corporate fraud: The human factor. Londen: Bloomsbury Publishing.

Independent Commission Against Corruption (ICAC). 2014. A best practice checklist. https://www.acauthorities.org/sites/aca/files/countrydoc/Governance%20and%20Internal%20Control%20-%20A%20Best%20Practice%20Checklist%20.pdf (27 April 2014 geraadpleeg).

Institute for Certified Fraud Examiners. 2010. Fraud Examiner Learning Material: International Edition. Johannesburg.

CPA Australia. 2011. Internal controls for not-for-profit organisationshttp://www.cpaaustralia.com.au/~/media/corporate/allfiles/document/professional-resources/notforprofit/internal-controls-for-nfp-organisations-brochure.pdf (24 Junie 2014 geraadpleeg).

Johnstone, K., A. Gramling en L. Rittenberg. 2014. Auditing: A risk-based approach to conducting a quality audit. Boston, MA: Cengage Learning.

Joubert, C. 2013. Toegepaste reg vir polisiebeamptes. 3de uitgawe. Lansdowne: Juta.

Kass-Shraibman, F. en V.S. Sampath. 2011. Forensic accounting for dummies. Hoboken, NJ: Wiley & Sons.

Lochner, H.T. 2016. Die gebruik van modus operandi-inligting van gevonnisde kontant-in-transito-rowers in die ondersoek van kontant-in-transito-rowe. DLit et Phil-proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika.

Lochner, H.T. en R.J. Zinn. 2015. Crime scene investigation. Claremont: Juta.

Lochner, H.T., J.S. Horne en R.J. Zinn. Ter perse. Criminal & forensic investigation: A guide to the basic processes and principles. Kaapstad: Juta.

Loughran, M. 2010. Auditing for dummies. Hoboken, NJ: Wiley & Sons.

Lynford, G. 2008. Internal controls: Guidance for private, government, and non-profit entities. Hoboken, NJ: Wiley & Sons.

Manacorda, S., F. Centonze en G. Forti. 2014. Preventing corporate corruption: The anti-bribery compliance model. New York: Springer International Publishing.

Maxfield, M.G. en E. Babbie. 2005. Research methods for criminal justice and criminology. Belmont, CA: Wadsworth.

McKinney, J.B. 2015. Effective financial management in public and non-profit agencies. Santa Barbara, CA: ABC-CLIO.

Melton, T. 2008. Real project planning: Developing a project delivery strategy. Oxford: Butterworth-Heinemann.

Mills, J. en M. Birks. 2014. Qualitative methodology. Londen: Sage.

Monckton-Smith, J., T. Adams, A. Hart en J. Webb. 2013. Introducing forensic and criminal investigation. Londen: Sage.

Murray, G.O. 2014. Procurement fraud: Are you vulnerable? TATA Consultancy Services. http://www.tcs.com/consulting/related-insights/Pages/Procurement-Fraud.aspx (28 April 2014 geraadpleeg).

Needles, B., M. Powers en S. Crosson. 2014. Principles of accounting. Mason, OH: South Western Cengage Learning.

Nextenders. 2016. 6 Types of procurement fraud and how to spot them. http://www.nextenders.co.uk/6-types-of-procurement-fraud-and-how-to-spot-them (24 Februarie 2020 geraadpleeg).

Nordby, J.S.H. en J.J. Bell. 2014. Forensic Science. Londen: CRC.

Olaniyi, M. en O.V. Mojisola. 2016. Detection and prevention of contract and procurement fraud – catalyst to organization profitability. Journal of Business and Management, 18:9.

Olsen, W.P. 2010. The anti-corruption handbook. Hoboken, NJ: Wiley & Sons.

Organisation for Economic Cooperation and Development (OECD). 2007. Bribery in public procurement: methods, actors and counter-measures. http://books.google.co.za/books?id=xHJrDNqgtZsCenpg=PA59endq=internal+controls+in+procurement+processenhl=enensa=Xenei=lPZIU82GEMGv7Qa-wYGoDwenved=0CFIQ6AEwAw#v=onepageenq=internal%20controls%20in%20procurement%20processenf=false (12 April 2014 geraadpleeg).

Panneerselvam, R. en P. Senthilkumar. 2009. Project management. New Delhi: PHI Learning Private Ltd.

Pedneault, S., F. Rudewicz, H. Silverstone en M. Sheetz. 2012. Forensic accounting and fraud investigation for non-experts. Hoboken, NJ: Wiley & Sons.

Penny, J. 2002. Corporate fraud prevention and detection. Bath, VK: LexisNexis.

Petersen, K.L. 2012. Corporate risk and national security redefined. New York: Routledge.

Pfister, J.A. 2009. Managing organizational culture for effective internal control: From practise to theory. New York: Springer International Publishing.

Quinot, G. 2013. Die reg se oënskynlike onvermoë om korrupsie in staatskontraktering in Suid-Afrika hok te slaan. https://www.litnet.co.za/die-reg-se-onskynlike-onvermo-om-korrupsie-in-staatskontraktering-in-suid-afrika-hok-te-sl (20 Februarie 2020 geraadpleeg).

Quintal, G. 2018. IRBA mum on findings against KPMG’s Gupta auditor. https://www.businesslive.co.za/bd/national/2018-11-01-irba-mum-on-findings-against-kpmgs-gupta-auditor (7 Mei 2019 geraadpleeg).

Sennewald, C.A. en J.K. Tsukayama. 2014. The process of investigation: Concepts and strategies for investigators in the private sector. 4de uitgawe. Waltham, MA: Elsevier.

Shackell, M., S. Ingram en I. Hall. 2014. Fraud: A guide to its prevention, detection and investigation. PriceWaterhouseCoopers. https://www.pwc.com.au/consulting/assets/risk-controls/fraud-control-jul08.pdf (28 April 2014 geraadpleeg).

Simkin, M.G., C.S. Norman en J.M. Rose. 2014. Core concepts of accounting information systems. Hoboken, NJ: Wiley & Sons.

Singleton, T.W., A.J. Singleton, G.J. Bologna en R.J. Lindquist. 2006. Fraud auditing and forensic accounting. Hoboken, NJ: Wiley & Sons.

Smuts, J. en I.J. Smuts. 1992. Woordeboek van Regs-en Handelsterme. Kaapstad: Nasou Beperk.

Sollish, F. en J. Semanik. 2012. The procurement and supply manager’s desk reference. Hoboken, NJ: Wiley & Sons.

Spencer-Pickett, K.H. 2010 The internal auditing handbook. Hoboken, NJ: Wiley & Sons.

Stamler, R.T., H.J. Marschdorf en M. Possamai. 2014. Fraud prevention and detection: Warning signs and the red flag system. Boca Raton, FL: CRC Press.

Suid-Afrika. 1951. Wenke in die ondersoek van misdaad. Pretoria: Staatsdrukker.

—. 1995. Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens 68 van 1995. Pretoria: Staatsdrukker.

—. 1996. Die Grondwet van Suid-Afrika 108 van 1996. Pretoria: Staatsdrukker.

—. 2001. Wet op die Regulering van die Private Sekuriteitsbedryf 56 van 2001. Pretoria: Staatsdrukker.

—. 2004. Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede 2 van 2004. Pretoria: Staatsdrukker.

Travers, J.A. 2005. Introduction to private investigations. 2de uitgawe. Springfield IL: Charles C. Thomas Publisher.

Turner, L. en A.B. Weickgenannt. 2009. Accounting information systems: Controls and processes. Hoboken, NJ: Wiley & Sons.

Turner, R.W. 2011. Supply management and procurement: From the basics to best-in-class. Plantation, FL: J Ross Publishing.

United States Code. 1977. Foreign Corrupt Practices Act of 1977, PL 95–213, 91 Stat 1494, Codified in Section 15 USC, United States of America.

—. 2002. Sarbanes-Oxley Act of 2002, PL 107–204, 116 Stat 745, Codified in Sections 11, 15, 18, 28, and 29 USC, United States of America.

Van Rooyen, H.J.N. 2004. Investigation: The A–Z guide for forensic, private and corporate investigators. Wierda Park: Henmar.

Venter, J.W.N. 2016. The exploration of appraising internal controls to detect procurement fraud during the tender stage at mines. MTech-verhandeling, Universiteit van Suid-Afrika.

Warren, C., J. Reeve en J. Duchac. 2014. Corporate financial accounting. Boston, MA: Cengage Learning.

Wiggins, J.M. 2010. Facilities manager’s desk reference. Hoboken, NJ: Wiley & Sons.

Williams, R. en Alan, D. 2000. Controlling corruption. Northampton: Elgar Publications.

Wincup, E. 2017. Criminological research. 2de uitgawe. Londen: Sage.

Zinn, R.J. en S.I. Dintwe (reds.). 2015. Forensic investigation: Legislative principles and scientific practices. Kaapstad: Juta.

 

Sake

S v Botha and Others (1) 1995 (2) SACR 598 (W)

Viking Pony Africa Pumps (Pty) Limited trading as Tricom Africa v Hidro-Tech Systems (Pty) Limited and Another (CCT 34/10) [2010] ZACC 21; 2011 (1) SA 327 (KH); 2011 (2) BCLR 207 (KH)

 

Eindnotas

1 Dit is fisiese bewyse wat waargeneem en gemeet kan word.

2 Dit is bewyse van mense wat indirek by die pleeg van misdaad betrokke is.

3 Die aankoopketting omvat die beweging van materiaal van die hulpbron (fabriek) na die eindgebruiker, en sluit in aankope, vervaardiging, opberging, vervoer en klantediens. Mense, aktiwiteite, inligting en hulpbronne is betrokke by die verskuiwing van die produk van die verskaffer tot by die klant.

4 United States Code 1977. Foreign Corrupt Practices Act van 1977, PL 95–213, 91 Stat 1494, gekodifiseer in artikel 15 USC, Verenigde St

5 United States Code 2002. Sarbanes-Oxley Act van 2002, PL 107-204, 116 Stat 745, Gekodifiseer in artikel 11, 15, 18, 28, en 29 USC, Verenigde State van Amerika. Die Sarbanes-Oxley Act is op 30 Julie 2002 deur president George W. Bush bekragtig. Die doel van die Wet is om 'n oorsigfunksie in finansiële verslagdoening vir professionele persone in die finansiële wêreld daar te stel. Die oogmerk daarvan is om ouditvereistes wat deur die Wet voorgeskryf word, na te gaan en beleggers te beskerm deur die akkuraatheid en betroubaarheid van korporatiewe openbaarmakings te verbeter.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post ’n Taksering van interne kontroles, die hekwag wat bedrog in die tenderstadium van aankoopsiklusse voorkom appeared first on LitNet.

Postkoloniale feminisme in die Afrikaanse poësie: Die debute van Ronelda S. Kamfer, Shirmoney Rhode en Jolyn Phillips

$
0
0

Postkoloniale feminisme in die Afrikaanse poësie: Die debute van Ronelda S. Kamfer, Shirmoney Rhode en Jolyn Phillips

Marni Bonthuys, Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit van Wes-Kaapland

LitNet Akademies Jaargang 17(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming 

Die hernude wêreldwye fokus op vroueregte en feminisme, voortgestu deur sosiale media as ’n ruimte waar die geïndividualiseerde, persoonlike narratief as politieke stelling gedeel kan word, word deur sommige beskryf as die derde feministiese golf. Hierdie sogenaamde derde golf omarm spesifiek die stemme van voorheen-gemarginaliseerde vroue. Begrippe soos postkoloniale feminisme word byvoorbeeld benut om swart feminisme te verbreed sodat dit diverse etniese groepe, kulture en klasse wat (dikwels) uit ontwikkelende lande afkomstig is, insluit. In die Afrikaanse literatuur, en spesifiek Afrikaanse poësie, is daar histories ’n opmerklike tekort aan swart of bruin vrouestemme. Gelyklopend met bogenoemde feministiese ontwikkeling het ’n aantal bruin Afrikaanse vrouedigters sedert 2008 by hoofstroomuitgewers gedebuteer. Die debute van drie van hierdie digters – Ronelda S. Kamfer se Noudat slapende honde (2008), Shirmoney Rhode se Nomme 20 Delphistraat (2016) en Jolyn Phillips se Radbraak (2017) – sal in hierdie artikel ontgin word met die fokus op die onderwerp van postkoloniale feminisme en in aansluiting hierby temas soos gender, ras, klas, literêre tradisie, taal en identiteit.

Trefwoorde: Afrikaanse poësie; derdegolffeminisme; Jolyn Phillips; postkoloniale feminisme; Ronelda S. Kamfer; Shirmoney Rhode

 

Abstract

Postcolonial feminism in Afrikaans poetry: The debuts of Ronelda S. Kamfer, Shirmoney Rhode and Jolyn Phillips

There has been a renewed international focus on women’s rights and feminism. As influential hashtag-campaigns such as the #metoo-movement illustrates, this development has been bolstered by the growing and far-reaching influence of social media. Social media provides a space where the personal can become political: The individualised, personal narrative of the woman can be shared as a political statement undermining the official narratives (often formulated by powerful men) with regard to highly contested issues such as gender violence. It therefore functions as a mouthpiece for all women, irrespective of their race, class, ethnic or geographic origin and sexual orientation. This focus on the embodied voices and rights of various groups of previously marginalised women is typical of the so-called third feminist wave. Within this movement paradigms like postcolonial or multicultural feminism expand on the ideas of black feminism as established during the second feminist wave to include women from different cultures who (often) come from developing countries. Young women and youth culture (social media and so-called digital or hashtag feminism are here relevant) as well as queer feminism where a binary understanding of gender is rejected, are also points of interest. Diversity is therefore celebrated and issues such as gender violence, societal identity norms for women, the silencing of vulnerable minorities and capitalist patriarchal constructs are taken to task.

In Afrikaans literature, and specifically Afrikaans poetry, there has historically been a stark deficit in black female voices. Coinciding with these global feminist developments a number of black Afrikaans female poets have debuted since 2008 at mainstream publishing houses. The debuts of three of these poets – Ronelda S. Kamfer’s groundbreaking Noudat slapende honde (2008), Shirmoney Rhode’s Nomme 20 Delphistraat (2016) and Jolyn Phillips’ Radbraak (2017) – will be discussed with the focus on the issue of postcolonial feminism and the relevance of themes such as gender, race, class, literary tradition, language and identity. 

It is the argument of this article that the texts of these poets are influenced by third wave and postcolonial feminist ideals and establish a new feminist tradition in Afrikaans literature. Although there are numerous women writers in Afrikaans, few have written distinctly feminist texts with Antjie Krog as one of the exceptions. Not only does Kamfer, Rhode and Phillips therefore represent the first group of black Afrikaans women poets published by more prominent publishing houses (Diana Ferrus is a well-known predecessor, however she is self-published), but they also introduce Afrikaans poetry with a strong feminist inclination.

In the article a short overview is provided of the different feminist waves. Feminism in Afrikaans literature is also discussed. The role of digital feminism within the third wave is referenced in an attempt to illustrate how this movement impacted the thinking of women in the last few years. The initial marginalisation of black women by white feminists during the first feminist wave is detailed. This tendency continued in the following feminist waves and still continues within certain feminist discourses today – also, notably, in Afrikaans. Subsequently, the development of black feminism, which flourished during the second wave and the Civil Rights Movement in the United States, into what could be termed postcolonial feminism today, is investigated. The theories of black feminists such as bell hooks and concepts such as intersectionality are thus discussed. The lack of a feminist inclination in Afrikaans literature (especially poetry) as well as the absence of black women until very recently is also explored and possible reasons for this gap provided. Racial or ethnic terminology comes to the forefront, since the question could be raised whether the term black woman writer is relevant given that the three poets whose work are mentioned do not necessarily utilize this racial label. Additionally the tradition of “swart Afrikaanse skryfwerk” (black Afrikaans writing) is referenced as well as the relevance of this concept with regard to postcolonial feminism.

Consequently, relevant poems in the debuts of Kamfer, Rhode and Phillips is examined. It is illustrated how ideas typical to postcolonial feminist thinking is found back in their work as indication of the influence of a new feminist consciousness – a consciousness which could be termed as typical of the third feminist wave. These poets write about similar themes such as sexual violence, marginalisation, female stereotypes, the dismantling of patriarchy and especially toxic patriarchal masculinity as well as the appropriation of language as a form of self-actualization. It is, however, evident that these poets have highly individualized voices. Although similar themes are found in their poetry it is explored or approached differently and, as interviews and thinking pieces of the poets illustrate, seen from contrasting perspectives. Although there might be signs of the establishment of a new feminist tradition in Afrikaans with poets like Antjie Krog and Diana Ferrus as well as an affiliation to the University of the Western Cape as common denominators in the development of said tradition, there are also prominent differences between these young poets. In fact, the argument could be made that their strength lies in the unique ways they are “coming to voice”, as bell hooks terms this process. The point is therefore made that it would be easy to categorize this clear new black feminist movement by assigning certain characteristics to it. Researchers should, however, remain vigilant against essentialisation and stay cognisant of the mantra of third wave feminism that difference, variety and even contradiction are part and parcel of the movement. 

In conclusion, the poetry of these postcolonial feminists represents a new voice, or rather new voices, in Afrikaans. Not only do these voices speak for themselves in own, individualised terms, they introduce a feminist approach to Afrikaans poetry which gives a voice to marginalised women from all races. 

Keywords: Afrikaans poetry; Ronelda S. Kamfer; Jolyn Phillips; postcolonial feminism; Shirmoney Rhode; third wave feminism

 

1. Inleiding 

Generasies na die suffrajette geveg het vir die vrou se reg om te stem, deur sommige beskou as die eerste golf of aanvang van die feminisme, is vroueregte en (veral) gendergeweld weer globaal ’n gesprekspunt. Naas die hoofstroommedia kom hierdie gesprekke waarskynlik nêrens sterker na vore nie as op sosiale media. Dié verskynsel word beskryf as hashtag feminism (hutsmerkfeminisme; dit word ook digitale feminisme genoem – sien De Jong en Murray 2017) en is tipies van die sogenaamde derde golf van feminisme. Volgens Dixon (2014:34–5) bied sosiale media álle vrou die ideale mondstuk om die eie, geleefde ervaring (van byvoorbeeld seksuele geweld) weer te gee en so die amptelike meesternarratiewe van mans, en spesifiek mans in magsposisies, te ondermyn. ’n Goeie voorbeeld daarvan is die #metoo-beweging wat ’n wêreldwye hutsmerk op sosiale media geword het na bekende aktrises se onthullings oor die magtige Amerikaanse filmmaker Harvey Weinstein se jare lange seksuele uitbuiting van vroue. Oor die werking van hutsmerkfeminisme, sê Dixon (2014:36): “Traditional representations of knowledge have been constructed from the societal perspective of the male, and this process of reconstruction with hashtag feminism is only an extension of re-authoring the lives of women by sharing their narrative.” 

Hutsmerkfeminisme versinnebeeld dus ’n tipe geïndividualiseerde feminisme wat deel uitmaak van ’n groter sambreelbeweging wat beskryf kan word as derdegolffeminisme. Tong (2009:271) stel dit dat die erkenning en aanvaarding van vroulike diversiteit vir derdegolffeministe sentraal staan. Volgens Mack-Canty (2004) ontwikkel derdegolffeminisme in die vroeë 1990’s uit die wortels van die tweede feministiese golf se welbekende motto: “The personal is political.” Die tweedegolffeministe, wat veral swart stemme asook lesbiese en werkersklasvroue ingesluit het, teenoor die eerste golf feministe wat vernaamlik wit en middelklas (of wit en welgesteld) was, wou met bogenoemde motto die idee ondergrawe dat politiek tot die publieke manlike domein behoort en die vroulike domein privaat en beperk tot die huishouding is (Mack-Canty 2004:154). Derdegolffeministe voer hierdie uitgangspunt selfs verder as hulle voorgangers deur die uiteenlopende persoonlike ervarings van vrouwees te omarm en die politiek verbonde aan ’n vroulike identiteit los van voorskrifte – ongeag of hierdie voorskrifte van ander vroue en/of feministe kom – te onderskryf. Dit word goed versinnebeeld deur die #metoo-beweging, asook soortgelyke sosialemediahutsmerke wat van vroue se individuele ervaringe van seksisme vertel het en ’n wye politieke impak meegebring het.1

Die preokkupasie met vroulike diversiteit maak dit uiteraard moeilik om die kenmerkende eienskappe van derdegolffeminisme te identifiseer. Volgens Tong (2009:289) is die “messiness” van die beweging juis een van die grootste punte van kritiek daarteen. Mack-Canty (2004:156) wys egter wel op ’n aantal fokuspunte wat vir derdegolffeministe sentraal staan. Sy beskou queerfeminisme, ekofeminisme, jeugfeminisme en postkoloniale feminisme as die belangrikste merkers van die beweging. In hierdie artikel gaan ek spesifiek fokus op postkoloniale feminisme (ook bekend as multikulturele feminisme – Tong 2009:200) as ’n uitgangspunt wat bou op die swart feminisme verwoord deur tweedegolffeministe soos bell hooks.

Danksy die rol van die internet en sosiale media is die reikwydte van derdegolffeministe se idees wyer en meer onmiddellik. Die #metoo-beweging het byvoorbeeld in Hollywood begin, maar wêreldwyd uitgekring. Burke (2018) beskryf hoe ’n “epidemic of sexual assault and harassment across every corner of the world” deur hierdie veldtog oopgekrap is en hoe die hutsmerk binne twaalf uur globaal versprei het. Ook in Suid-Afrika gebruik vroue dié hutsmerk om hulle stories van seksuele misbruik te vertel met enkele bewerings oor invloedryke Suid-Afrikaanse mans wat die hoofstroommedia haal (Ajayi 2018).2 

T’Sjoen vra in 2016 die vraag op die Versindaba-webwerf of daar wel sprake is van ’n feminiseringsgolf in die Afrikaanse poësie sedert die millenniumwending, en indien wel, of hierdie golf ’n genderspesifieke fokus het en ’n “ander geluid” het as die werk van die talle Afrikaanse vrouedigters van die vorige eeu. Dit is my argument dat daar wel so ’n nuwe, feministiese geluid is – spesifiek onder jong vrouestemme en vernaamlik jong bruin vrouestemme. Hierdie verskynsel hang saam met derdegolffeminisme en sou as postkoloniale feminisme getipeer kon word. Daar sal voorts geïllustreer word hoe dié feministiese denkpatroon neerslag vind in die onlangse Afrikaanse digdebute van drie bruin3 vrouedigters, naamlik Ronelda Kamfer,4 Shirmoney Rhode en Jolyn Phillips.

 

2. Van die eerste feministiese golf tot postkoloniale feminisme vandag

Die verskynsel van die aparte feministiese golwe is ’n kontroversiële kwessie, aangesien daar heelwat meningsverskille bestaan oor wanneer die verskillende golwe ’n aanvang geneem het en wat die onderskeidende kenmerke daarvan was.

Dit word algemeen aanvaar dat die eerste golf in die laat 1700’s ontstaan het. In 1792 verskyn Mary Wollstonecraft se ikoniese A vindication of the rights of women waarin sy bourgeois vroue beskryf as voëls in goue koutjies wat doelloos tuis moet sit en slegs kan “stalk with mock majesty from perch to perch”. Hierdie soort tekste was die saad waaruit ’n beweging gegroei het wat uiteindelik gelyke politieke en ekonomiese regte vir vroue en mans as oogmerk gehad het. Werkersklasvroue se posisie was op daardie stadium egter baie anders as dié van hierdie bourgeois vroue – om nie eers te praat van die posisie van swart vroue in die koloniale ryke nie. In die 18de eeu was slawerny nog wettig in die meeste lande en soos Murray (2010:450) in ’n artikel oor Suid-Afrikaanse slawenarratiewe aandui, was die liggaam van die slavin uiters kwesbaar binne hierdie bestel. Slavinne was volkome uitgelewer aan die vergrype van wit én swart mans. Wetlik het hulle liggame aan hul slawe-eienaars behoort, terwyl manlike slawe selde verantwoordbaar gehou is vir die mishandeling van slavinne. Murray (2010:456) wys voorts op die algemene koloniale persepsie en voorstelling van swart vroue (en spesifiek slavinne) as seksueel losbandig en immoreel, asook voortdurend daarop uit om (veral wit) mans te verlei. Murray (2010) omskryf hierdie sienswyse as tipies van die patriargale, manlik-gedomineerde koloniale bestel. Dit behoort egter beklemtoon te word dat hierdie persepsies van slavinne nie net by wit mans bestaan het nie, maar dat dit deur die wit koloniale gemeenskap in die breë – dus óók wit vroue – gehuldig is.5

Madlela (2018) dui aan dat die swart vroulike liggaam histories ’n politieke, sosiale en kulturele konstruksie was, beskryf vanuit wit en/of manlike perspektiewe wat dit óf as brutaal en primitief óf as eksoties en oorgeseksualiseerd uitgebeeld het. Die hedendaagse navorser moet egter versigtig daarvoor wees om slavinne net as slagoffers sonder enige agentskap te skets – Chaudhari (2015) argumenteer in haar proefskrif dat die slavin van verskeie meganismes, spesifiek ook stilte, gebruik gemaak het om innerlike teenstand teen slawerny en onderwerping te bied. Vermeulen (2018:10) dui in haar verhandeling oor die toepassing van bell hooks se teoretisering op die werk van Ronelda Kamfer aan dat die ontstaan van swart feminisme verder teruggevoer word as die tweede golf van feminisme, en dat dit gewortel is in die stryd om die afskaffing van slawerny in die 19de eeu waarin slavinne uiteraard ook ’n rol sou gespeel het.

Swart feminisme word veral deur swart Amerikaanse feministe gedryf en is volgens Vermeulen (2018:11) sterk beïnvloed deur die Civil Rights Movement van die laat 20ste eeu. Tweedegolffeministe soos bell hooks en Gloria Anzaldua (Mack-Canty 2004:158) het die fokus laat val op die interseksionaliteit van verskeie “ismes” en ook seksisme. Carastathis (2014) verklaar die begrip intersectionality binne feministiese teorie aan die hand van die feit dat vroue se lewens altyd gevorm word deur verskeie, interseksionele sisteme van onderdrukking eerder as deur ’n enkelvoudige binêre politieke proses. Sy beklemtoon die sterk verbintenis tussen die ontwikkeling van interseksionele teorie en swart feminisme omdat swart vroue altyd deel uitmaak van minstens twee onderdrukte groepe met betrekking tot ras en geslag. Interseksionaliteit is dus ’n metafoor om die kompleksiteite ten opsigte van die marginalisering van vroue te verduidelik en individualiteit te belig: “[I]ntersectionality may capture the irreducibility of experience to any single category by keeping multiple categories of oppression in play at once” (Carastathis 2014:308).

Derdegolffeministe sluit by hierdie fokus aan en begin (soos reeds gesuggereer) by uiteenlopende vroue se individuele, verskillende en beliggaamde (“embodied”) perspektiewe. Mack-Canty (2014:160) sê selfs dat die somtyds teenstrydige stemme binne die feministiese beweging nie vir derdegolffeministe so problematies is soos vir hulle voorgangers nie, maar juis tekenend van die lewenskragtige hibriditeit van vroulike agentskap. Om hierdie rede word die veroordeling van vroue se keuses ook ten sterkste vermy – dit staan vroue vry om (nes mans) te kies wie en wat hulle wil wees.

Tong (2009:288) omskryf dit soos volg:

[T]hird-wave feminists are shaping a new kind of feminism that is not so much interested in getting women to want what they should want, as in responding to what women say they want and not second-guessing or judging whether their wants are authentic or inauthentic.

Mack-Canty (2014:159–64) beklemtoon telkens die verweefdheid van hierdie golwe en wys daarop dat die omarming van vroulike diversiteit kan plaasvind júis danksy die boustene wat deur vorige generasies feministe gelê is. Dit is dan ook waarom sy jeugfeminisme en jeugkultuur (wat verskynsels soos sosiale media en hutsmerkfeminisme insluit) as een van die merkers van derdegolffeminisme uitwys – dié nuwe generasie is volledig gevorm deur die idees wat deur die vorige golwe daargestel is:

These young feminist writers acclaim and theorize the complexity and contradiction in their lives. They adhere to the notion of theorizing from women’s embodied and situated perspectives and so construct their theories from their multiple locations. While they refuse to be bound by feminist ideals not of their own making, they regard this refusal as an extension of “the personal is political”, not a difference separating them from second-wave feminism. Paralleling postmodernism, in their view, a feminist politics has to take into account the many differences that make up the category “women”.

Die postmoderne afkeer van binêre opposisies is nog iets wat Mack-Canty (2014:155) uitwys as vormend ten opsigte van hierdie groep se sienswyse. Die verwerping van tradisionele man-vrou-teenstellings (met mans wat byvoorbeeld gestereotipeer word as inherent rasioneel en gewelddadig teenoor vroue as emosioneel en versorgend) het tot gevolg dat queerfeminisme ook as tiperend van die derde golf beskou kan word. Soos die tweedegolffeminis Gloria Anzaldua in haar mees onlangse tekste te kenne gee, word daar nou wegbeweeg van enige identiteitsboksies (Mack-Canty 2014:157). Weer eens vind daar dus verruiming plaas met betrekking tot die tweede golf, aangesien daar hier nie net vir gayregte geveg word nie, maar heeltemal weggedoen word met etikette soos “heteroseksueel” en “homoseksueel”. Die hele spektrum van verstrengeldheid tussen begrippe soos seksuele oriëntasie, biologiese geslag, gender en seksualiteit wat gesuggereer word deur die term queer, word geaktiveer. Die idee van wat vroulikheid of manlikheid is, word dus aan die orde gestel, eerder as wat gayregte bloot erken word. 

Soos reeds genoem, beskou Mack-Canty (2014:156) postkoloniale feminisme as nog een van die belangrike merkers van die derde golf. Postkoloniale feminisme brei die fokus van die swart feminisme verder uit om die langdurige negatiewe effek (veral op ekonomiese terrein) van die koloniale bestel (Mack-Canty 2014:164–5) op álle vroue, vanuit verskillende kulturele agtergronde, in ontwikkelende lande in te sluit. Tydens ’n onlangse gesprek oor postkoloniale en queerfeminisme by die STINT-lesing6 aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), wys die Ugandees-Sweedse feministiese aktivis Victoria Kawesa (2019) op die feit dat swart feminisme vroeër geknoop was aan ’n sterk Afro-Amerikaanse perspektief wat nie altyd die nuanses van ander swart vroue begryp of ondervang het nie. Hedendaagse postkoloniale feministiese bewegings poog dus om in ’n meer inklusiewe rigting te beweeg as hulle voorgangers. Soos reeds gesuggereer, is inklusiwiteit egter steeds ’n probleem binne die groter feministiese beweging. Oor die derde feministiese golf en verskynsels soos digitale feminisme in ontwikkelende lande waar inwoners byvoorbeeld nie eers geredelike internettoegang het nie, vra Ajayi (2018): “[H]ow global is a Western-derived movement that purports to save women everywhere without understanding fully the intersections and narratives that embody their diverse experiences and positionalities, both within and across countries?” Sy wys verder daarop dat “die Weste” vandag nog in die sogenaamde postkoloniale era ’n rigtinggewende rol in globale debatte speel en aan soortgelyke feministiese bewegings in byvoorbeeld Afrika, soos 2015 se #BeingFemaleinNigeria-beweging en die #NakedProtests in Suid-Afrika,7 nie dieselfde erkenning gegee het as wat Westerse hutsmerkbewegings ontvang het nie (Ajayi 2018). Selfs binne die derde, meer “multikulturele” (Tong 2009), feministiese golf kan die kritiek dus geopper word dat die Westerse of wit vrou se belange steeds sentraal staan – bo dié van hulle swart susters en vroue in ontwikkelende lande.

Tong (2009:288) beklemtoon die feit dat postkoloniale feministe krities staan teenoor die patriargie, maar óók teenoor vroulike chauvinisme, wat sy omskryf as die geneigdheid van een groep vroue om namens ’n ander te praat of hulle voor te sê wat hulle moet dink of doen. Binne die postkoloniale feminisme word alle vroue se individuele kulturele agtergronde gevier. Terme soos women of colour (soortgelyk aan nieblank of kleurling in die Afrikaanse konteks – Van Wyk 2007) word dus krities bejeën, aangesien hierdie terme nie net ’n hele groep etnisiteite en kulture saambondel nie, maar ook die wit vrou as norm stel en die bruin of swart vrou outomaties as die Ander (Tong 2009:207). In Afrikaanse skryfwerk word die term swart Afrikaanse skryfwerk sedert die einde van die vorige eeu gebruik om na die werk van bruin Afrikaanse skrywers te verwys. Die term swart dui hier nie op velkleur nie, maar volgens Van Wyk (1997:96) eerder op ’n bepaalde tradisie wat verband hou met die verset teen ’n stelsel van “homogenisering, koöptering en etniese chauvinisme”.

Soos Van Wyk (2007) aandui, is daar egter ook bruin skrywers wat nie met hierdie kleuretikettering en tradisie identifiseer nie (net soos sommige vroue noemers soos vroueskrywer, skryfster of digteres problematiseer). Cochrane skryf in 2008 ’n artikel oor die “swart Afrikaanse vroueskrywer” in postapartheid Suid-Afrika en wys uit die staanspoor op die problematiek rondom die verwysing na hierdie skrywers as swart. Hy benut dit egter wel in sy artikel as ’n “ruim etniese term” waarmee hy na “alle Afrikaanse skrywers van kleur” verwys.

Binne die tradisie van die derdegolffeminisme sou die etiket swart Afrikaanse vroueskrywer of swart Afrikaanse feminis geproblematiseer kon word as essensialiserend ten opsigte van die individualiteit van die feministiese skrywer. In hoeverre postkoloniale feministe hulle kan losmaak van essensialiserende rasterme in ’n rasbehepte land soos Suid-Afrika, is egter debatteerbaar. Die uitsluiting van die swart vroue binne die groter feministiese beweging is, soos Davis (2018) in Feminism is. South Africans speak their truth uitwys, steeds ’n uitdaging, met wit feministe wat aan die een kant dikwels nie bereid is om hulle wit bevoorregting te erken nie, maar aan die ander kant soms voetstoots deur swart feministe geïgnoreer word omdat hulle nie werklik die kwessie van interseksionaliteit “sou kon verstaan nie”. hooks (2013:40) wys daarop dat swart en wit vroue al vir eeue deur wat sy noem “white supremacist capitalist patriarchy” teen mekaar afgespeel word om sodoende die status quo van vroulike onderdrukking in stand te hou.

My keuse vir die beskrywing van hierdie skrywers as postkoloniale feministe hang, naas bogenoemde teoretiese agtergrond, saam met die gekose digters se eie uitsprake oor hul skryfwerk en ras-identiteit. Phillips (2018) dui aan dat die beklemtoning van haar ras met betrekking tot haar skryfwerk problematies is. Onmiddellik as kritici en/of lesers aflei dat sy bruin is, word haar poësie teen haar biografiese agtergrond gelees – ’n leesstrategie van haar werk waarteen ook Rhode waarsku as sy aan Meyer (2016) sê dat die leser nie vir háár moet probeer peil deur haar bundel te lees nie, aangesien dit meer oor haar gemeenskap van herkoms gaan as wat dit soseer outobiografies is.

Aan Van Zyl (2017) sê Phillips weer:

In my skryfwêreld en my taalwêreld is ras so simpel. Dit kan nie lewe nie, dit het nie asem nie, dit het nie bene nie, dit het nie denke nie. Dit is iets wat geplaas is op ’n mens. So dis interessant dat mense sê my werk is ’n stuk vel. Ek voel my werk is aanmekaargesit en lewe ingeblaas en praat met ’n taal wat aan hulle (die karakters) behoort, wat net hulle s’n is. Vel is te oppervlakkig. Die sprekers en die karakter kom wys vir jou hul mens, hier binne. 

Vermeulen (2018:67) wys daarop dat Kamfer uitsprake oor haar identiteit en ras-etikette in onderhoude vermy. Ek meen hierdie vermyding is doelbewus, aangesien haar werk self so ’n sterk bemoeienis met ras en identiteit toon. Oor Kamfer en Rhode as van die min “vars, nuwe jong vrouestemme uit die skadu- en niestandaardkant van die taal” skryf die digter Clinton V. du Plessis (2017): “Rhode is nie so angry soos byvoorbeeld ’n Ronelda S. Kamfer nie, maar Afrikaans kan doen met hierdie ryke versmelting en verbastering van tonge as hy tot al sy sprekers wil begin en bly spreek.” Du Plessis wys dus daarop dat Kamfer en Rhode se werk ten spyte van ooreenkomste nie sommer oor dieselfde kam geskeer kan word nie en dat daar duidelik sprake van die persoonlike narratief is wat ’n politieke funksie aanneem deurdat dit ’n stem aan uiteenlopende gemarginaliseerde sprekers van Afrikaans gee.

Ook Van Wyk (2018) stel dit dat daar in swart skryfwerk wat ná 1994 verskyn, dikwels ’n bemoeienis is met die eie narratief, die kleingeskiedenis – “the return to the past, to forgotten histories as an answer and response to the collective quest to ‘tell our own stories’”.

Postapartheid digters soos Kamfer, Rhode en Phillips se uiters geïndividualiseerde perspektiewe op hulle skryfwerk, asook die tematiek wat in hul werk aangespreek word, skakel dus met tendense tipies van huidige swart Afrikaanse skryfwerk, maar dui óók op ’n denkpatroon tipies van die derde golf van feminisme.

 

3. Afrikaanse feministiese tradisie?

In die Afrikaanse letterkunde sien ons, nes in die res van die wêreld en wêreldgeskiedenis, die verskynsel dat die bydrae van swart feministe nie altyd na regte erken en na waarde geskat word nie. Daar moet hier uit die staanspoor genoem word dat hoewel daar verskeie gekanoniseerde vroueskrywers in Afrikaans is, daar nie noodwendig ’n sterk feministiese tradisie bestaan nie (sien onder meer Marais 1988). T’Sjoen wys (soos reeds vermeld) so onlangs as 2016 op hierdie hiaat in die Afrikaanse letterkunde. De Jong se lemma oor feminisme in die 1992-weergawe van Literêre terme en teorieë identifiseer Antjie Krog as een van die min Afrikaanse skryfsters wie se werk ’n sterker bewustheid van “die vrou as vrou” toon. In die elektroniese 2017-weergawe van hierdie bron blyk dit dat, soos in die geval van swart Amerikaanse feminisme, ook die ontwikkeling van Afrikaanse feminisme geknoop was aan politieke protes. De Jong en Murray (2017) skryf naamlik dat die “werklike feministiese wending” in die werk van enkele Afrikaanse vroueskrywers sedert die 1980’s vervleg is met ’n kritiese standpuntinname teenoor bepaalde politieke en kulturele stelsels se miskenning van vryhede en regte – ’n verskynsel wat hulle skakel met die begrip interseksionaliteit en met postkoloniale feminisme. Ten spyte van hierdie insig word net die name van wit feministiese skrywers hier vermeld – selfs nie dié van E.K.M. Dido, wat waarskynlik een van die sterkste feministiese stemme in Afrikaans is en al sedert die laat 1990’s verskeie romans oor die posisie van bruin en swart vroue asook maatskaplike kwessies soos gendergeweld gepubliseer het, nie. De Jong (1992) en later De Jong en Murray (2017) verwys vernaamlik na onder meer Wilma Stockenström, Jeanne Goosen, Marlise Joubert, Joan Hambidge en Marlene van Niekerk, met spesifieke fokus op Antjie Krog se sentrale posisie as feministiese Afrikaanse stem.8 Viljoen (2007:26) skryf oor Krog se posisie binne die vroulike tradisie in die Afrikaanse poësie met onder meer Elisabeth Eybers en Ingrid Jonker as van haar voorgangers. Ook sy illustreer hoe Krog se werk, wat onder meer genderperspektief betref, wegbreek van dié “literêre moeders” en hoe Krog haarself gevestig het as een van die min duidelik feministiese stemme in Afrikaans. 

Cochrane (2008:40) kom in sy artikel tot die gevolgtrekking dat swart Afrikaanse vrouestemme op daardie stadium (2008 dus) steeds ’n literêre minderheid is. Dit geld veral vir swart digters, wat toe geen gevestigde uitgewerstradisie gehad het nie, terwyl die wit vrouedigter reeds met die verskyning van Elisabeth Eybers se debuut in 1936 ’n sterk literêre teenwoordigheid geniet het. Cochrane (2008:40) vermeld E.K.M. Dido as die “hooffiguur” wat swart Afrikaanse vroueskrywers in 2008 betref en Diana Ferrus as die bekendste swart vrouedigter in die Afrikaanse letterkunde. Hy wys egter daarop dat Ferrus se eerste selfstandige bundel, Ons komvandaan (2006), ’n selfpublikasie is, wat gevolglik net beperkte blootstelling binne die Afrikaanse literêre veld gekry het. Cochrane (2008:46) skryf die tekort aan bruin of swart vroueskrywers toe aan die gebrek aan rolmodelle en ’n literêre tradisie; die wit hegemoniese status van die Afrikaanse uitgewersbedryf en die kanon; historiese agterstande; asook ’n sterk swart orale tradisie. Vanuit ’n interseksionele hoek gesien was die swart vroueskrywer dus dubbel gemarginaliseer binne die Afrikaanse literêre veld – as swart skrywer, en dan ook as vroueskrywer. 

Die swart skrywer se vervreemding van Afrikaans (en spesifiek van Standaardafrikaans) as die taal van die onderdrukker tydens apartheid, speel myns insiens ook ’n groot rol ten opsigte van die keuse vir niepublikasie in Afrikaans. Soos die bruin Engelse digter Gabeba Baderoon (2018) in ’n lesing by UWK aangedui het, was die swart spreker en skrywer se gebruik van Engels ook ’n vorm van protes. Hierdie verskynsel skakel met die onderwerp van bewustelike stiltes as teken van verset wat Chaudhari (2015) onder die loep neem. Die kwessie van die herbesitname van Afrikaans as ’n taal met swart en bruin wortels kom sterk aan bod in Noudat slapende honde, die debuut van Ronelda Kamfer wat knap na die verskyning van Cochrane se 2008-artikel deur die hoofstroomuitgewery Kwela Boeke gepubliseer is en, soos Vermeulen (2018) aandui, ’n “nuwe geluid” in die Afrikaanse poësie verteenwoordig.

 

4. Ronelda S. Kamfer, Shirmoney Rhode en Jolyn Phillips 

In hierdie afdeling word geïllustreer hoe die denkpatroon van derdegolffeminisme, en spesifiek postkoloniale feminisme, neerslag vind in die bundels van drie bruin digters wat sedert 2008 in Afrikaans gedebuteer het. Enkele tersaaklike temas en gedigte in Ronelda S. Kamfer se baanbrekerteks, Noudat slapende honde (2008), sal eerstens bespreek word. Verbande sal voorts gelê word met Shirmoney Rhode se Nomme 20 Delphistraat (2016) en Jolyn Phillips se Radbraak (2017). 

Kamfer – volgens die biografiese inligting in haar debuut ’n 27-jarige bruin vrou van Blackheath in Kaapstad – sinspeel in die gedig “vergewe my maar ek is Afrikaans” (2008:32–3)9 spesifiek op haar terugeis van Afrikaans as die sogenaamde taal van die onderdrukker. Haar gebruik daarvan bevestig dus haar agentskap:

yes, julle etters
ek het die geheim ontdek

ek praat julle taal
ek eet julle kos
ek bly in julle vaderland
ek drink julle wyn
ek sing julle musiek
en liewe ooms, ek, ja ek, ek vry met julle seuns.

Opvallend is die terugpraat met patriargie in selfgeldende taal. Die subjek, uitgedruk deur die eerstepersoonsvorm ek, staan duidelik teenoor die “ooms”, “seuns” en “vaderland”. Soos die uitdagende titel van haar bundel aandui, is slapende honde nou wakker en het die voorheen-gemarginaliseerde vrou nou ’n stem. Dié titel aktiveer ook die skelwoord “teef”, en die suggestie word geskep dat Kamfer hier, soos die feminis Jo Freeman in 1969 met haar BITCH Manifesto, dié seksistiese woord terugeis en toe-eien.

Verskeie gedigte in Kamfer se debuut het eksplisiet-feministiese temas – vergelyk onder meer “Dame in progress”, “die huisvrou” en “goeie meisies” wat die tradisionele siening van wat vroulikheid veronderstel is om te wees, uitdaag en ondergrawe. Soos Kamfer (18) in “Dame in progress” aandui, weet sy presies hoe ’n dame veronderstel is om te wees en sal sy eendag aan hierdie verwagtinge voldoen: “Ek gaan ophou rook en bier drink / en ek gaan die oulikgeit van / gehoorsaamheid aanleer / Ek gaan mans respekteer / en nooit / meer as een boyfriend / op ’n slag hê nie”. Tans (en, lei die leser af, waarskynlik in die toekoms ook) kies sy egter om hierdie patriargale “reëls” te breek. “die huisvrou” (19) se eerste reël beskryf “antie Doris”, die “huisvrou” van die titel, as “’n tipiese tannie”. Noemers soos “huisvrou”, “antie” en “tannie” word uit die staanspoor benut om te suggereer watter stereotipiese rolle Doris as versorger, ma en vrou binne die gemeenskap vervul het. Haar aktiwiteite word voorts geskets: “sy [het] heeldag huis skoongemaak, wasgoed gewas en kos gekook / sy was ’n huisvrou”. Die implikasie is dus dat die uitvoer van huishoudelike take ál was wat Doris heeldag gedoen het en dat dit haar volkome gedefinieer het: “sy was ’n huisvrou” (my kursivering). Aan die einde van die gedig blyk dit dat Doris haar man en twee kinders vermoor het en gevolglik deur die polisie gearresteer is. Haar emosionele agteruitgang en die breuk met realiteit wat skynbaar haar gesin se dood meegebring het, word gesuggereer deur die feit dat sy op die dag van die moorde voortgegaan het om wasgoed op te hang, vensters te was en stoepplante water te gee in “vreeslike reën”. Wanneer die polisie haar arresteer, sê sy aan omstanders dat hulle “maar kan kyk / haar huis is skoon”. Die leser maak die afleiding dat “die huisvrou” se dodelike roetine haar obsessie met skoonmaak en haar familie se dood veroorsaak het. Terselfdertyd ondermyn die gedig die identiteitsboksies waarin vroue deur die samelewing geplaas word deurdat die “huisvrou” en ma, wat volgens die norm altyd ’n versorgende moedersinstink teenoor haar gesin (moet) openbaar, haar familie skynbaar koudbloedig vermoor. Die verwerping van die binêre opposisies ten opsigte van gender, waar vroue versorgend en mans gewelddadig is (Mack-Canty 2014:155), kom dus na vore as tema.

Die kwessie van die kategorisering van die vrou kom ook eksplisiet in “goeie meisies” (43) aan bod. Weer eens word die konvensies waaraan goeie meisies moet voldoen, gelys:

goeie meisies join nie gangs nie
hulle raakie pregnant op dertien nie
hulle dra nie tjappies nie
hulle roekie weed nie
hulle tik nie
hulle djol nie saam met onderwysers nie
hulle speen nie saam met taxi drivers nie
hulle werk nie vir Shoprite nie
hulle is nie die cleaners nie
goeie meisies bly nie oppie Cape Flats nie. 

Die implikasie is, soos in die geval van “Dame in progress” (18), dat die spreker nie aan hierdie vereistes voldoen nie – veral aangesien die ruimte wat deurgaans in die bundel geskets word, spesifiek die Kaapse Vlakte is, nes die afkoms van die digter self, soos aangedui in die reeds-vermelde biografiese nawoord. Tipies van derdegolffeminisme word die kompleksiteit en kontradiksies van vroulike diversiteit (sien Mack-Canty 2014:159–64) dus onderskryf.

Interseksionaliteit kom veral na vore as Kamfer die patriargie van die rassistiese wit establishment illustreer met ’n gedig soos “die baas van die plaas” (14), wat die vernederende paternalisme skets waarmee die wit “base” (“baas Willem / en dr. Metzler”) die digter-spreker se ouma hanteer. Baas Willem is sogenaamd goed vir die ouma, maar gee die armer, ouer vrou in werklikheid maar skrale voorregte (“sy kon altyd eerste kies / watter ou klere sy wou hê”) en probeer haar oorreed om haar kinders voor “standerd 10” uit die skool te haal sodat hulle op die plaas kan werk. Dr. Metzler sê daar is “immorality” in die ouma se kinders se oë en dat sy kan “dankie sê / die laaste een is doodgebore”. Die onderdrukte posisie van die bruin arbeider word hier uitgebeeld, met die wit boer wat te kenne gee dat die bruin vrou se kinders geen kwalifikasie nodig het nie, aangesien hul in ieder geval net op die plaas gaan werk. Die dokter gaan selfs verder in sy ontkenning van die bruin vrou en haar kinders se menswaardigheid met sy stelling. Die verwysing na die “immorality” in die kinders se oë skakel ook met die kwessie wat na aanleiding van Madlela (2018) hier bo aangeroer is. Die bruin liggaam (hier van die kinders van die ouma) word via die wit man se perspektief ’n politieke, sosiale en kulturele konstruk wat met brutaliteit en primitiwiteit in verband gebring word.

Die weerlose posisie van die bruin vrou in haar eie gemeenskap kom egter ook in Kamfer se bundel na vore. In “’n gewone blou Maandagoggend” (15) word gendergeweld en die afwesigheid van vaderfigure aangrypend geskets as daar ’n sterfte buite die digter-spreker se skool is – skynbaar as gevolg van bendegeweld – en ’n vrou gillend die straat afhardloop terwyl sy die Here (met die dubbelbetekenis van die woord hier geaktiveer) vra: “waar was Josef toe Jesus gekruisig is?”

Die tema van die afwesige pa kom weer ter sprake in “Pick n Pa” (24) as die digter-spreker verskillende soorte pa’s wat sy “ken”, lys. Hierdie pa’s word vernaamlik deur negatiewe eienskappe gedefinieer, byvoorbeeld as “pa’s wat hulle kinders haat / pa’s wat hulle dogters like10 / pa’s wat hulle vrouens slaan”. Die seksuele, fisieke en geestelike mishandeling van vroue en kinders deur ’n manlike vertroueling word dus aangespreek, maar ook die kwessie van vaders wat emosioneel onbetrokke is (“pa’s wat net somtyds praat”) en vaders wat glad nie aanwesig is in die kind se lewe nie (“Ek ken ’n klompie soorte pa’s / behalwe die een wat ek / nog nooit gesien het nie”).

“Lolla” (25) skets ’n eksentrieke kunstenaar wat haar kuns langs die pad verkoop het en uiteindelik “verkrag en vermoor is”. Vir die digter-spreker was dié Lolla haar “eerste hero” en sy het gewens dat Lolla beroemd sou word vir haar kuns omdat haar “weirdness totally unrehearsed is”. Weer is daar dus sprake van ’n vrou wat die samelewing se reëls oortree – in hierdie geval word haar aweregsheid “gestraf” met die dood en seksuele degradasie. Opvallend is ook die feit dat Lolla spesifiek as wit geskets word (“haar hare was lank en blond en sy’t mooidag blou oë gehad”), hoewel die fokus van die bundel sterk geknoop is aan die bruin vrou se identiteit. Die leser sou dit kon interpreteer as duidend op die weerlose posisie van vroue van álle rasse in die samelewing (hier Suid-Afrika) – ’n punt wat veral hooks (2013:40) herhaaldelik maak as sy skryf oor die wyse waarop wit en swart vroue teen mekaar afgespeel word in ’n patriargale bestel. Mack-Canty (2004:159) wys ook daarop dat postkoloniale feminisme “third-world women” van alle rasse se saak opneem as slagoffers van die nalatenskap van kolonialisme.

Die kwessie van seksuele geweld is, soos reeds genoem, voorts ’n sterk fokus van derdegolffeministe (De Jong en Murray 2017). Kamfer se volgende bundels bou voort op hierdie temas en ontgin spesifiek die rol van sterk vroulike voorgangers in haar gemeenskap (soos Lolla) en figure soos Kamfer se ma en ouma (sien onder meer die bundel Hammie, waarvan die titel “ma” of “mammie” beteken).

In die tien jaar na Kamfer se debuut verskyn, word die poësie van nog twee jong bruin vrouedigters deur meer gevestigde uitgewers gepubliseer – die 25-jarige Shirmoney Rhode se Nomme 20 Delphistraat in 2016 deur Modjaji en die 27-jarige Jolyn Phillips se Radbraak in 2017 deur Human & Rousseau. Daar is duidelike verbande tussen hierdie twee digters – hulle is in dieselfde tyd studente aan die Universiteit van Wes-Kaapland waar Kamfer self kort vantevore haar honneurs in Afrikaans en Nederlands voltooi het. Hier moet Diana Ferrus ook as ’n belangrike voorgangerfiguur vermeld word, aangesien sy ’n lang verbintenis met UWK het as personeellid, ook toe al drie digters studente daar was. Ferrus se gedigte en produksies wat gewy is aan historiese bruin vroue soos Sara Baartman en Ansela van de Caab, haar ontwikkeling van bruin digters soos die suksesvolle podiumdigtergroep die Mengelmoes Digters, asook haar poëtiese ontginning van die herkoms en ontwikkeling van bruin identiteit (sien Chaudhari 2013) vestig haar as ’n moeder-digter in swart Afrikaanse skryfwerk. Haar werk en postuur as openbare figuur toon ook duidelike invloede van die teorieë van tweedegolffeministe soos hooks. 

Naas Ferrus, is Antjie Krog ’n tweede literêre voorganger by UWK, aangesien Kamfer, Rhode en Phillips al drie op verskeie tydstippe klas in kreatiewe skryfkuns by Krog ontvang het. Soos reeds vermeld, benut Viljoen (2007) die term literêre moeder as sy skryf oor Krog se posisie binne die vroulike tradisie in die Afrikaanse poësie. Sy illustreer hoe Krog se werk, ook wat genderperspektief betref, wegbreek van háár literêre moeders en illustreer dat hoewel ’n vroueskrywer soos Krog “die kontinuïteit van ’n vroulike tradisie opsoek deur aan te sluit by die werk van vroulike voorgangers, is daar beslis ook by haar ’n behoefte om weg te breek van daardie voorgangers ten einde ’n eie stem te ontwikkel” (Viljoen 2007:26). Konflik en verwerping is dus ook tipies van ’n vroulike literêre tradisie. 

Soos Kamfer, roer Rhode en Phillips feministiese temas aan en skakel hul werk met wat vroeër beskryf is as postkoloniale feminisme. Die kwessie van uitsonderlike vroue en afwesige vaderfigure word in beide bundels ontgin. Rhode (2016) se bundel word opgedra aan die ouma wat haar grootgemaak het – ’n onderwerp wat in die bundel se eerste gedig, “7 dinge wat djy nie van my sal wiet'ie” (Rhode 2016:9) en onderhoude (Meyer 2016) aan bod kom.11 Nomme 20 Delphistraat word verder gekenmerk deur gedigte soos “’n double side story” (10) wat wys op die behoudende en toonaangewende invloed van vroue in ’n gemeenskap waar mans dikwels vroue in die steek laat – die “single ma’s wat sônne die sight van sleg pa’s kinnes reg groot maak”; die “anties wat hulle laities in'ie tronk besoek, al sê wie oek nou wat”. Dieselfde tema kom in “buite die eg” (15) ter sprake waarin die digter-spreker in die eerste strofe aandui dat sy en haar broers almal buite-egtelike kinders is met verskillende pa’s, maar dieselfde ma. Dít, skryf sy, maak haar ma egter nie uitsonderlik nie: 

daai een ma moes alles doen vi’ drie kinnes
ma’ dit maak ha’ nie kwaai nie
wan’ die antie langsan maak vyf kinnes allien groot
verder in’ie pad is Claudine wat 4 kinnes het
wat’ie ees wiet wie hulle pa’s is’ie

en dan is daa’ die antie oo’kant hulle
wie se man in’ie tronk was vanaf ha’ kinnes klein was
so dit maak’ie my ma much wonderful nie.

Hierdie gedigte funksioneer as ’n aanklag teen mans wat vroue forseer om alleen in gesinne en gemeenskappe die fort te hou – ’n tendens wat volgens laasgenoemde gedig al so wydverspreid geraak het dat dit nie eers meer as abnormaal beskou word binne die gemeenskap nie.

Mack-Canty (2004:165) wys, soos reeds vermeld, telkens op die effek van koloniale strukture wat bepaalde sosiale euwels in die postkoloniale gemeenskap meebring en spesifiek vroue en kinders raak. In gedigte soos “ballade van ’n wasdag” van Phillips (2017:42–3) kom daar ook ’n matriargale huishouding aan bod. Die digter-spreker skets ’n emosioneel-afwesige alkoholis-pa, ’n ouer broer wat oorlede is (“lyksang vir jou skollietaal” op bladsy 24 suggereer dat hy betrokke was by bendes en ’n tyd lank in Boys Town – ’n verbeteringskool – gebly het), en ’n treurende ma wat wanhopig haar verbrokkelende gesin bymekaar probeer hou deur obsessiewe aktiwiteite soos die herhalende skoonmaak (let op die raakpunt met Kamfer se “die huisvrou”) van die huishoudelike ruimte: “tenminste ruik ons skoon ek en jy / rondom jou pa wat walms maak / van Mooi Vallei Jonkheer en hom”. Opvallend hier is die vroulike “ek” en “jy” versus die implisiet-afwesige broer, die pa, die “Jonkheer” en die “hom”. Die vaderfiguur se vernietigende alkoholisme kom ook in die gedigte “dop system’s merry-go-round” en “heil die leser” (11 en 16) na vore. In laasgenoemde sluit die digter-spreker af: “in my pa se huis / skryf ek hom weg / wegter van my – / ek wysig sy swets”, wat die verwydering wat in “ballade van ’n wasdag” ter sprake kom, eggo. Opvallend is die feit dat dit steeds die “pa se huis” is, hoewel die moeder volgens talle ander gedigte in die bundel (sien bo) duidelik die hooffiguur in die huishouding is.

In laasgenoemde gedig se slotreëls blyk dit dat die digter-spreker haar skryfwerk gebruik om haar van die patriargale strukture in haar huis en gemeenskap te bevry. Soortgelyke tematiek kom in “Bokkie polony” (34–5) aan bod as die jong vrou die familie en gemeenskap se verwagtinge van haar (soortgelyk aan in Kamfer se “Dame in progress” en “goeie meisies”) verwerp en kies om eerder by UWK te gaan studeer as om die permanente pos by die deli te vat wat haar ma vir haar gereël het: 

my ma is kwaad sy skel in my in
wiet jy hoe het ek gat gelek by
die deli? wie gaan jou vat? waar
gaan jy bly? ons het nie mense
in die Kaap nie   Kaap is nie
speletjies nie jy’t ’n job by die deli
jy kry uniform gaan vra terug
jou job by die deli jy gaan dit nie
maak nie niemand van ons het dit
gemaak nie 

In “Bokkie polony” kom die gemarginaliseerde posisie van vroue van verskeie rasse weer ter sprake as die digter-spreker die werkersklasvroue vermeld wat by die deli in diens is. Die titel hou verband met die Xhosavrou Loki se beskrywing van verskillende rasse in Suid-Afrika: “wit mense laat haar dink / aan sandwich ham biltong laat haar / dink aan haar man in die Transkei / Bokkie polony is ons almal saam gemix”. Die afleiding wat die leser maak, is dat Loki te kenne gee dat alle mense uiteindelik dieselfde is – letterlik vleis met ’n bepaalde verganklikheid. Dit word verweef met die beskrywings van die ma se ontevredenheid met die dogter se besluit om te gaan studeer en die waarskuwing dat sy dit nie in die Kaap “gaan ... maak” nie, want “niemand van ons het dit gemaak nie”, wat gelees kan word as duidend op geslag (“ons vroue”), maar ook op ras (“ons familie” of “ons gemeenskap”). ’n Inklusiewe siening van mense word dus gehuldig, maar met beklemtoning van die interseksionele uitdagings wat verskillende rasse/geslagte ervaar.

Al is hul werk nie noodwendig outobiografies nie, staan herkoms, en veral die herkoms van ’n bepaalde familie en gemeenskap (soos in Diana Ferrus se Ons komvandaan), sentraal in Rhode en Phillips se debute. Die voorwoord tot Nomme 20 Delphistraat is deur Ferrus geskryf en stel dit reeds in die eerste reël: “In hierdie bundel wroeg die digter nie oor wie sy is nie. Sy is deeglik opgevoed by Nomme 20 Delphi Straat” (sic) (Rhode 2016:2). Rhode se grootwordadres, Delphistraat 20, funksioneer as bundeltitel van haar debuut. Die funksie van hierdie adres kom in onderhoude (sien onder meer Meyer 2016) en in die gedig “’n lewe tussen'ie nomme’” (11) ter sprake. Die digter gebruik dit naamlik om die vernietigende rol van die sogenaamde nommerbendes op die Kaapse Vlaktes, asook die feit dat armoede mense se seggenskap wegvat en hulle net nommers maak, te belig. Oor die adres sê sy: “Op my hart is 20 Delfiestraat getjap. / Ek dra daai nomme' om my nek, / plakkit op'ie deur van my hart, / ’n lifetime choice.” Hierdie gedig en talle ander in die bundel (sien byvoorbeeld die programgedig “7 dinge wat djy nie van my sal wiet'ie”, 9), funksioneer as interseksionele manifeste waarin agentskap en selfbevestiging sentraal staan.

In “vlak” (19), wat sinspeel op Rhode se herkoms van die Kaapse Vlakte, spreek sy haar eksplisiet uit teen neerhalende pogings om haar “in ’n boksie [te] pak”; te “classify”:

Omdat ek op’ie vlaktes bly, dink djy ek’s vlak:
vlak van hart, vlak van siel.
Maak mekaa’ sat, drink klip hat,
praat soes wat,
djy dink ek’s vlak.
Vlak van gees. 

Kwessies soos rassisme, seksisme en klassisme word hier en in verskeie ander gedigte in die bundel uitgedaag.

Dieselfde kwessies vermeld by Kamfer en Rhode, word aangespreek in Phillips se werk. Klassisme binne die digter-spreker se eie gemeenskap word byvoorbeeld geskets in “duiker-Ma se skrikkeljaar” (Phillips 2017:18–9) as die welgestelde “poachers” se “skynheilig[e]” vrouens genoop word om, nadat hulle mans in die tronk beland as gevolg van hulle onwettige bedrywighede, in die visfabriek saam met die werkersklasvroue op wie hulle normaalweg neersien, te werk. Hierdie gedig is interessant, aangesien dit klassisme binne die bruin gemeenskap ontgin. So word die kwessie van interseksionaliteit veel verder uitgebrei as vernaamlik geknoop aan kategorieë soos ras, gender en seksuele oriëntasie – ’n argument wat Mack-Canty (2004) se artikel oor die ontwikkeling van derdegolffeminisme onderlê.

Die digter-spreker wat in Radbraak uit die verf kom, is ’n meer ambivalente, buitestanderfiguur as die een in Nomme 20 Delphistraat. Herkoms kom wel ter sprake in die bundel, met talle verwysings na die Overberge en ’n vissersgemeenskap. In onderhoude bevestig Phillips dat sy van hierdie areas kom, asook die gegewe in “Bokkie polony” aangaande haar studies aan UWK en haar ouers se aanvanklike onsekerheid oor hierdie skuif (Phillips 2018 en Van Zyl 2017). Naas “Bokkie polony” hanteer verskeie gedigte egter die tema van enkelingskap. Die kreatiewe kind wat anders as haar nefies en niggies is, figureer in “tong-trilogie” (Phillips 2017:37–9); die digter-spreker se geïsoleerdheid binne haar eie familie na die dood van haar broer word aangesny in “ballade van ’n wasdag” (42–3); en die digter-spreker word as vreemdeling voorgestel in Kaapstad tydens haar studentejare in die gedigsiklus “kronieke van ’n plaasjapie in die stad” (26–8). In laasgenoemde gedig, asook in “pakkry-storie part i: die ingelse lady” (22), kom ras ook ter sprake, spesifiek met die gebruik van die negatiewe woorde “baster” (26) en “bastard” (22) wat telkens deur ander gebruik word om die digter-spreker te beskryf. Soos in die geval van Kamfer se werk is daar egter ’n appropriasie (of toe-eiening) van hierdie woorde deur die digter-spreker. Nadat die “ingelse lady” haar en haar maats “bastards” noem, “bastard” hulle “alles”: “’gee die bastard potlood’ fluister ons in die klas / ‘oe dit is darem bastard skoene Alicia’ / ‘bye bastard sien jou môre weer’” (22).

In Rhode en Phillips se bundels is daar verskeie kopknikke in Kamfer se rigting; sien byvoorbeeld Phillips se “skoolstraat” (Phillips 2017:46) wat in gesprek tree met die reeds vermelde “’n gewone blou Maandagoggend” (Kamfer 2008:15). Die mees opvallende ooreenkoms hier is die feit dat die titel van Phillips se gedig (“skoolstraat”) ook sentraal staan in Kamfer s’n – die bendegeweld wat geskets word in Kamfer se gedig vind naamlik naby die digter-spreker se skool plaas en uiteindelik word die “lyk” in “Skoolstraat” gevind. Phillips se gedig begin verder met die reëls “ek koep ’n boksie meitjies / die winkel is toe” (’n verwysing na ’n kinderspeletjie soortgelyk aan wegkruipertjie) met die suggestie van die moetiemoord van ’n kind by ’n winkel aan die einde van die gedig. Kamfer se “’n gewone blou Maandagoggend” verwys weer na die digter-spreker se “gewone” dag wat begin met huishoudelike takies en sigarette wat by die huiswinkel gekoop word en eindig met ’n moord in Skoolstraat. Phillips ironiseer dus die onskuld van die kinderspeletjie net soos Kamfer die stereotiepe idee van die “blou Maandag” wanneer allerlei kleinighede sou verkeerd loop, ironiseer.

Naas hierdie opvallende intertekstuele gesprek is daar, soos reeds aangetoon, talle gedigte van albei jonger digters wat op tematiese vlak met die werk van die voorganger Kamfer skakel. Soos Viljoen (2007) oor die funksionering van literêre tradisie aandui, is die gesprek met Kamfer egter huldigend én ondermynend. Reeds voor haar debuut verskyn, sê Rhode (2013) in ’n sterk-bewoorde LitNet-artikel oor Kamfer se man, Nathan Trantraal, se Chokers en survivors dat sy nie saamstem met sy kritiek teen die digter Adam Small (waarskynlik die mees gekanoniseerde bruin digter in Afrikaans en gebruiker van Kaaps in sy poësie) en die tipering van Kaaps as ’n taal wat deurspek is van vloekwoorde nie. Sy kritiseer ook die feit dat Trantraal se werk op negatiewe stories van haar gemeenskap fokus: 

Small en daai Snyders12 het Kaaps ’n joke taal gemaak? ’n Taal waain da gesing en dans word? Hoe? Kô lat ons sing? Nee man, Nathan, in die meanwhile issit ma hoekal jou Kaapse gedigte, met sy lekker nat vloekwoorde, groot wit kaal vaginas en penisse, en daai “skreeusnaakse humor” wat mense aan die lag het. […] Jou broer beskuldig Small dat hy in sy skryfwerk die “neerbuigende opvatting rondom bruin identiteit bevestig en ondersteun het”. En nou is my vraag an jou, hoe laat jou gedigte osse mense lyk, Nathan? Hoe staan jy op tien die stereotype wat da is o onse mense?

Rhode (2013) voer dus aan dat Trantraal “generalise”: “Ons amal issie soe nie en os amal praatie soe nie. Da is actually mense wat kan Kaaps praat sonne om te vloek.” Die gedig “djy vloek” (Rhode 2016:16–7) in haar debuut skakel met hierdie gesprek. Strofes in hierdie gedig – “’n man wil hulle try wys / dat ôs oek mens is / dat ôs oek decent mense kan wies / en djy vloek?” – betrek duidelik hierdie gegewe en is waarskynlik ook ’n korrektief op die reeds-vermelde “goeie meisies” waarin Kamfer (2008:43) tot die slotsom kom dat “goeie meisies” nie op die Kaapse Vlaktes woon nie. ’n Vroeë weergawe van Rhode (2016:10) se “’n double side story”, waarin die positiewe vroue in haar gemeenskap gelys word, word destyds aan die einde van haar LitNet-artikel (Rhode 2013) oor Trantraal se werk geplaas. Dié gedig kontrasteer met Trantraal se voorstellings van Kaaps en die Kaapse Vlakte, maar opvallend óók met Kamfer (2008:24) se lys van negatiewe mans in “Pick n Pa”. Die titel “’n double side story” suggereer ’n bewustelike terugverwysing na haar voorganger(s) se werk – Rhode verskaf die ander, positiewe kant van die storie wat Kamfer (ook) vertel.

In Phillips se “lyksang vir jou skollietaal” (2017:24) word taal, soos by Rhode en Kamfer (2008:32–3) (in laasgenoemde se terugeis van die “liewe ooms” se Afrikaans en haar gebruik van verskillende variante soos Kaaps), gebruik as ’n vorm van identiteitskonstruksie in die sin dat dit die self distansieer van ’n ander identiteit. Die slotstrofe van laasgenoemde gedig lui:

ek skryf vir jou in die skollietaal
wat jy geleer het in die Boys Town
die taal van nommes13 en pakamisa
en sabela wat jou gehelp het om te survive
die taal wat jou huis toe gebring het
en jou wit biene gemakit
Ma en Pa gebruik jou dood soos button-pille maar
ek trek lang skywe met jou taal    nip jou
in die asbakkie ek wil nie met my lewe so be-taal 

In Phillips se bundel staan die poëtiese verbreking van taal (soos die titel, Radbraak, suggereer) sentraal. Die tweede gedig (“tongvis”) en die slotgedig (“Diglossie”) beklemtoon Phillips (8 en 64) se omhelsing, vervlegting en vervorming van verskillende tale (soos Afrikaans, Engels en Xhosa) asook variëteite (soos Kaaps, Standaardafrikaans en Overbergse Afrikaans) tot ’n eie taal. Tydens ’n optrede en gesprek by die ALV-kongres in 2018 dui sy aan dat dit in hierdie idiolek is waar sy haar stem as swart digter vind (Phillips 2018).

Die drie digters benut dus soortgelyke variëteite en ontgin soortgelyke temas. Daar is ook duidelike tekens van intertekstualiteit en dieselfde voorgangerdigters wie se stemme neerslag vind in hulle werk. Máár, die digters se poësie klink verskillend – met Kamfer wat woordekonomies dig, Rhode wie se werk kenmerke van die praatvers of narratiewe poësie toon en Phillips wat met ritme en taal speel, sodat haar werk ’n bepaalde liriese, musikale klank het (sy het ook ’n hele aantal van haar gedigte self getoonset – Phillips 2018). Soos hier bo aangetoon, word ooreenstemmende temas ook deur die drie digters op uiteenlopende wyses aangeroer en ontgin. Dié drie jong, bruin vroue se ooreenkomste en verskille as ’n nuwe generasie Afrikaanse digters versinnebeeld die tipering van derdegolffeministe. Soos Mack-Canty (2004:158) dit stel, die “universalism inherent in both the feminist arguments for equality and for difference” moet deur die navorser herken én erken word.

 

5. Ten slotte

Dit is dus my argument dat daar wel ’n nuwe, feministiese geluid in die Afrikaanse poësie is – spesifiek onder jong vrouestemme en vernaamlik jong bruin of swart vrouestemme. Hierdie groep sou ’n mens kon bestempel as postkoloniale feministe, tipies van die derde golf van feminisme. Die essensie van hierdie beweging is egter om divers te wees, wat die navorser forseer om klakkelose kategorisering te vermy. Die drie jong digters wat in hierdie artikel aan bod kom, naamlik Ronelda S. Kamfer, Shirmoney Rhode en Jolyn Phillips, se gemoeidheid met ras en gender, met identiteit, met herkoms, met taal, met agentskap, met verbintenis binne ’n literêre tradisie, maar ook die feit dat hulle individue is wat namens hulself praat, verteenwoordig ’n belangrike feministiese ontwikkeling binne die Afrikaanse letterkunde. Die swart of bruin vrou was nog altyd aanwesig in die Afrikaanse letterkunde, al was dit in haar stiltes, maar nóú tree sy sterk na vore met ’n eie, geïndividualiseerde stem. Vermeulen (2018:35) beskryf in haar verhandeling oor Kamfer hierdie kreatiewe selfaktualiseringsproses aan die hand van bell hooks se begrip coming to voice waarvolgens die vrou haar stem as’t ware ontdek en dan die moed het om ’n sterk eie opinie krities te lug en haarself te laat hoor. Die nuwe, gevarieerde insigte wat hierdie groep postkoloniale feministe na die tafel bring, kring egter wyer uit as die individu en gee in werklikheid agentskap aan gemarginaliseerde Afrikaanse vroue van álle rasse.

 

Bibliografie

Ajayi, T.F. 2018. #MeToo, Africa and the politics of transnational activism. Africa is a country. https://africasacountry.com/2018/07/metoo-africa-and-the-politics-of-transnational-activism (25 Mei 2019 geraadpleeg).

Baderoon, G. 2018. Keynote lecture at English postgraduate seminar, Universiteit van Wes-Kaapland, 22 Mei.

Brink, A.P. 2005. Houd-den-bek. Kaapstad: Human & Rousseau.

Burke, L. 2018. The #MeToo shockwave: Now the movement has reverberated around the world. The Telegraph, 9 Maart.

Carastathis, A. 2014. The concept of intersectionality in feminist theory. Philosophy Compass, 9(5):304–14.

Chaudhari, S. 2013. Plek, geheue en identiteit in twee gedigte van Diana Ferrus. Stilet, XXV(1):34–57.

—. 2015. Die rebellie van die slavin: ’n African womanist-perspektief op die stiltes van die slavin in geselekteerde Afrikaanse tekste. PhD-proefskrif, Universiteit van Fort Hare.

Cloete, T.T. (red.). 1992. Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM-Literêr.

Cochrane, N. 2008. Die swart Afrikaanse vroueskrywer (1995–2007): Nog steeds ’n literêre minderheid binne ’n demokratiese bestel. Acta Academica, 40(1):31–51.

Davis, R. 2018. Confessions of a white feminist. In Thorpe (red.) 2018.

De Jong, M. 1992. Feminisme. In Cloete (red.) 1992.

De Jong, M. en J. Murray. 2017. Feminisme. Literêre terme en teorieë. http://www.literaryterminology.com/index.php/lemmas/13-f/1564-feminisme-2 (7 November 2019 geraadpleeg).

Dixon, K. 2014. Feminist online identity: Analyzing the presence of hashtag feminism. Journal of Arts and Humanities, 3(7):34–40.

Du Plessis, C.V. 2017. Afrikaans se leef- en leeswêreld verruim. Netwerk 24, 20 Februarie.

Freeman, J. 1969. The BITCH Manifesto. https://www.jofreeman.com/joreen/bitch.htm (7 November 2019 geraadpleeg). 

hooks, b. 2013. Writing beyond race: Living theory and practice. New York en Londen: Routledge.

Jones-Rogers, S.E. 2019. They were her property. White women as slave owners in the American South. New London, CT: Yale University Press.

Kamfer, R.S. 2008. Noudat slapende honde. Kaapstad: Kwela Boeke.

—. 2011. grond/Santekraam. Kaapstad: Kwela Boeke.

—. 2016. Hammie. Kaapstad: Kwela Boeke. 

—. 2019. Chinatown. Kaapstad: Kwela Boeke.

Kawesa, V. 2019. Conversations on transnationalism and intersectionality in postcolonial feminism. STINT openbare lesing, 30 Oktober, Universiteit van Wes-Kaapland.

Mack-Canty, C. 2004. Third-wave feminism and the need to reweave nature/culture duality. NWSA Journal, 16(3):154–79.

Madlela, K. 2018. Visual representations of black hair in relaxer advertisements: The extent to which it shapes black women’s hair preferences and attitudes towards hair alteration. De Arte, 53(1):49–74.

Marais, R. 1988. Vrouwees: Perspektiewe in die meer onlangse Afrikaanse poësie en prosa. Literator, 9(3):29–43.

Meyer, N. 2016. Onderhoud: Shirmoney Rhode oor Nomme 20 Delphi Straat. LitNet. https://www.litnet.co.za/onderhoud-shirmoney-rhode-oor-nomme-20-delphi-straat (25 Junie 2019 geraadpleeg).

Murray, J. 2010. Gender and violence in Cape slave narratives and post-narratives. South African Historical Journal, 62(3):444–62.

Phillips, J. 2017. Radbraak. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 2018. Optrede en gesprek oor Radbraak. ALV-kongres, 13 September, Universiteit Stellenbosch.

Rhode, S. 2013. Kô lat os praat! #prefablyinkaaps. LitNet. https://www.litnet.co.za/k-lat-os-praat (25 Mei 2019 geraadpleeg).

—. 2016. Nomme 20 Delphistraat. Kaapstad: Modjaji Books.

Thorpe, J. (red.). 2018. Feminism is: South Africans speak their truth. Kaapstad: Kwela Boeke.

Tong, R. 2009. Feminist thought. 3de uitgawe. Charlotte: Westview Press. 

T'Sjoen, Y. 2016. Vrouwentongen. Nieuwe stemmen van het nieuwe millennium in Afrikaans en Nederlands. Versindaba. http://versindaba.co.za/2016/10/02/yves-tsjoen-vrouwentongen (25 Mei 2019 geraadpleeg).

Van Wyk, S. 1997. “Ons is nie halfnaaitjies nie / ons is Kaaps”: Die wroeging met identiteit by enkele swart Afrikaanse skrywers. Literator, 18(2):85–97.

—. 2007. Hibriditeit, of die baster in ons. 2000. LitNet. https://www.litnet.co.za/hibriditeit-of-die-baster-in-ons-2000 (25 Mei 2019 geraadpleeg).

—. 2018. Narrating the past: Reflections on recent black Afrikaans writing. Tydskrif vir Letterkunde, 55(1):70–80.

Van Zyl, M. 2017. “My werk is nie ’n stuk vel nie”. Netwerk 24, 15 September. 

Vermeulen, D. 2018. ’n Ondersoek na Ronelda Kamfer se poësie aan die hand van bell hooks se filosofie oor ras en taal. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Viljoen, L. 2007. Antjie Krog en haar literêre moeders: Die werking van ’n vroulike tradisie in die Afrikaanse poësie. Tydskrif vir Letterkunde, 44(2):5–28.

Wollstonecraft, M. 1792. A vindication of the rights of women. Oxford: Oxford University Press.

 

Eindnotas

1 Naas die #metoo-beweging verwys Dixon (2014:34) na ander feministiese hutsmerkbewegings soos #bringbackourgirls, #YesAllWomen en #SolidarityIsForWhiteWomen. Laasgenoemde is ’n beweging wat spesifiek die inklusiwiteit van digitale feminisme en die uitsluiting van swart vroue bevraagteken.

2 Ajayi (2018) verwys hier onder meer na die geval van Jennifer Ferguson, voormalige ANC-LP en sanger, wat die ANC-politikus en hoof van die South African Football Association (SAFA), Danny Jordaan, van verkragting aangekla het.

3 Die gebruik van die term bruin met verwysing na ’n bepaalde rasgroep word later in die artikel ondersoek en verantwoord.

4 Kamfer se grond/Santekraam (2011), Hammie (2016) en die pasgepubliseerde Chinatown (2019) bou voort op hierdie feministiese temas, maar vir die doeleindes van dié artikel sal slegs die debute van die drie digters bespreek word.

5 Die leser van Afrikaanse fiksie word hier herinner aan André P. Brink se slaweromans waar wit vroulike karakters, soos Cecilia in Houd-den-bek (2005), nog wreder teenoor slavinne sou optree as wit mans. Hierdie verhale is wel fiksie, maar die aktiewe rol van wit vroue in die slawehandel is ook opgeteken in geskiedkundige bronne soos die onlangs verskene They were her property. White women as slave owners in the American South deur Stephanie E. Jones-Rogers (2019). 

6 STINT is die verkorte naam van die Sweedse Stiftelsen för internationalisering av högre utbildning och forskning, internasionaal beter bekend as Swedish Foundation for International Cooperation in Research and Higher Education.

7 Laasgenoemde beweging het deel uitgemaak van die #fmf-beweging toe vrouestudente teen seksuele geweld op kampusse betoog het. 

8 Naas hierdie digters kom prosaskrywers soos Rachelle Greeff, Elsa Joubert, Marita van der Vyver en Lettie Viljoen ter sprake (De Jong 1992; De Jong en Murray 2017). 

9 In hierdie afdeling sal slegs die bladsynommer ná die eerste volledige bronverwysing van die betrokke digbundel gebruik word totdat ’n ander digter se werk ter sprake kom. 

10 Die woord “like” word hier suggestief gebruik om seksuele mishandeling te impliseer.

11 Hier is duidelik ook ’n skakel met Kamfer se werk waar die vroulike grootouer as voorgangerfiguur figureer – ’n tema wat veral in grond/Santekraam ontgin word. 

12 Hier word verwys na die bruin digter Peter Snyders wat ook talle gedigte in Kaaps geskryf het. 

13 Soos by Rhode kom die verwysing na die sogenaamde nommerbendes weer hier na vore.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Postkoloniale feminisme in die Afrikaanse poësie: Die debute van Ronelda S. Kamfer, Shirmoney Rhode en Jolyn Phillips appeared first on LitNet.

Enkele kontekstuele invloede op skoolhoofde: ’n Studie in Gautengse skole

$
0
0

Enkele kontekstuele invloede op skoolhoofde: ’n Studie in Gautengse skole

RJ (Nico) Botha, Kollege van Opvoedkunde, Universiteit van Suid-Afrika

LitNet Akademies Jaargang 17(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Hedendaagse navorsing oor skooldoeltreffendheid, skoolverandering en skoolverbetering toon onder meer dat dit nodig is om voortdurend nuwe en toepaslike ondersteuningstrategieë te implementeer ten einde skoolleierskap en skooldoeltreffendheid te bevorder en daardeur onderrig en leer in skole te verbeter. Die sentrale teoretiese argument van die studie is dat skoolleierskap in Suid-Afrika nie van aanvaarbare gehalte kan wees tensy skoolleiers ook kennis neem van die kontekstuele invloede of faktore wat ’n uitwerking op hulle professionele aktiwiteite kan hê nie. Met hierdie studie, wat op ’n kombinasie van ’n beskrywende literatuurstudie en ’n kwantitatiewe empiriese ondersoek in geselekteerde skole in Gauteng berus, wil ek bydra tot die gesprek oor skoolleierskap, -doeltreffendheid, -verandering en -verbetering in Suid-Afrikaanse skole deur die kwessie deur die lens van die kultuurhistoriese aktiwiteitsteorie te beskou. Ek het in die studie gefokus op slegs enkele van die eksterne kontekstuele invloede wat skoolleiers in ag moet neem en wat ’n uitwerking op hulle professionele aktiwiteite kan hê. Enkele aanbevelings vir die uitoefening van skoolleierskap op grond van die kultuurhistoriese aktiwiteitsteorie word as uitkoms van die studie voorgestel. Alhoewel dit ’n uiters idealistiese verwagting is, word daar nogtans vertrou dat die studie alle skoolhoofde in ontwikkelende lande sal ondersteun, in die besonder om doeltreffender te word wat hulle leierskapsgebruike betref.

Trefwoorde: Gautengse skole; kontekstuele faktore; kultuurhistoriese aktiwiteitsteorie; ondersteuningstrategieë; skooldoeltreffendheid; skoolleierskap; skoolverandering; skoolverbetering

 

Abstract

Contextual influences on school principals: A case study in Gauteng schools

Contemporary research on school effectiveness, school change and school improvement indicates that there is a constant need to introduce new and relevant support strategies to school leaders to promote school leadership and thereby improve teaching and learning in their respective schools. According to prominent scholars in the areas of educational change and school improvement, the success of educational changes and educational reforms depends largely on the quality and type of leadership that persists in schools. In addition to this aspect, there has also been a recent tendency among scholars of educational leadership to delimit the parameters of school leadership, including school principals, to matters that pertain directly to the institution in question.

It is also widely acknowledged among different scholars in the field of school leadership that the professional and leadership roles of school principals are affected by factors outside the school as well. A school is therefore required to function more effectively and successfully as a teaching-learning organisation, while remaining relevant in the changing cultural-historical context of its surrounding community.

Many South African schools, especially in rural areas, are confronted with contextual factors such as poverty, illiteracy and modernisation in their surrounding communities, placing the schools under external pressure. The central theoretical argument of this study is that school leadership in South Africa cannot be of an acceptable quality unless school leaders, such as principals, take cognisance of the contextual influences that might have an impact on their professional activities.

In this study, the effect of external contextual factors and their impact on the professional activities of school leaders are discussed within a specific theoretical framework, namely the cultural-historical activity theory (CHAT), which has the potential to explain how school leaders in South Africa should respond more effectively to the cultural dimensions of educational leadership. This should lead to a more complete conceptualisation of educational leadership, as attention will be drawn to the need for school principals to take cognisance of, among other things, external contextual factors in improving their schools.

This study, based on a combination of a descriptive literature study and a quantitative empirical study in selected schools in the province of Gauteng in South Africa, contributes towards the discourse on school leadership, effectiveness, change and improvement in Gauteng schools by viewing the issue through the lens of the CHAT. This study focused on some of the external contextual influences that school leaders should take into consideration and that might have an influence on their professional activities, and recommendations for exercising school leadership based on the CHAT are proposed.

The main research question that will be explored in this study can be phrased as follows: How should school leadership in Gauteng secondary schools be managed to respond to the external contextual factors that exert pressure on schools? The main objective of the current study was to participate in the discourse on organisational leadership and change in educational institutions in a developing country such as South Africa by offering a tentative answer to the abovementioned research question.

The study focuses mainly on how the CHAT can be used to support principals in Gauteng secondary schools. The literature phase was descriptive, while the empirical study was quantitative in nature. The sample consists of 50 (n=50) principals of Gauteng secondary schools. The research instrument for obtaining data from the respondents was a themed and structured closed-ended questionnaire survey. The participants were purposively selected from secondary schools situated in a wide range of socio-economic communities in Gauteng. They were asked to complete a comprehensive questionnaire to ascertain their views on some of the external contextual factors that might have an impact on their work as school leaders, based on the CHAT.

The theoretical framework of the study is followed by a discussion of the results of the quantitative phase of the study, which is focused on the views of participants with regard to the external contextual factors that may have an impact on South African schools and their respective links with the CHAT. The data obtained from the participants were discussed according to certain identified contextual factors. The responses of the 50 (100%) principal participants from secondary schools in Gauteng were subject to statistical analysis through the use of the simple calculation of frequencies and percentages. Six contextual factors were identified as factors that might have a direct relationship with school leadership and that principals will most probably need assistance with. These six contextual factors were modernisation; the social context of society; demographics; science and technology; information as well as the knowledge explosion; and decentralisation and school-based management. The data obtained from the participants of this study were analysed and discussed according to these six contextual factors.

It is clear from the analysis of the data above that participants in this study regarded modernisation, demographics and the knowledge explosion as important contextual factors exerting a significant influence on their professional activities. The social context of society was not regarded as an important factor at all, while the majority of respondents were undecided as to whether contextual factors such as science and technology and decentralisation had any impact at all on their professional activities.

Some important conclusions were drawn from this study. It seems to be particularly important for the principals in the study to be informed about the contextual conditions that might have an impact on the effectiveness of their schools. Awareness of these conditions could ensure that schools remain relevant and are able to contribute to the growth and development of and change in their communities.

South African principals should therefore not only keep up with developments in the world, just as their counterparts in more developed parts of the world do, but they also have the additional task of taking account of both intra- and extra-institutional contextual developments that might be unique to their particular communities and situations. With this in mind, South African school principals could usefully employ the CHAT to shape a strategic plan to stimulate and to bring about development and change in their schools and communities.

Principals, as education leaders, are entering an unknown future, but they must nevertheless be clear about the outcomes that they are striving for. Understanding the contextual factors that have an impact on their future as school leaders could play a significant role in their strategy for coping with the challenges of the future.

In conclusion, it is believed that the study will support all principals in developing countries specifically in becoming more effective in their leadership practices.

Keywords: contextual factors; cultural-historical activity theory; Gauteng schools; school change; school effectiveness; school improvement; school leadership; support strategies

 

1. Inleiding en agtergrond

Een van wyle Nelson Mandela se oortuigings dat onderwys die magtigste middel tot ons beskikking is om die wêreld te verander, word tans verwesenlik deur pogings om gehalteonderwys na alle dele van die wêreld uit te brei. Gehalteonderwys in die konteks van die huidige studie verwys na effektiewe onderrig en leer wat skoolverbetering en dus meer effektiewe skole met verbeterde uitkomste tot gevolg het (Botha 2018). Hierdie strewe na gehalteonderwys het voortgespruit uit vroeëre oortuigings, wat strek vanaf die siening in die 1950’s dat onderwys die belangrikste instrument is waarmee die modernisering van samelewings teweeggebring kan word (Peet en Hartwick 2015), tot die meer moderne beskouing dat doeltreffende onderwys oor die vermoë moet beskik om ekonomiese groei te bewerkstellig (Tan 2014) en dat dit instrumenteel kan wees om hedendaagse maatskaplike euwels soos dwelmmisbruik, armoede en geweld uit te roei (Yew 2013; Yamagata-Lynch 2014). Juis as gevolg van hierdie en ander standpunte belê ontwikkelende lande soos Suid-Afrika ’n groot deel van hulle openbare hulpbronne en ’n aansienlike persentasie van hulle bruto nasionale produk in die onderwys (Rajbhandari 2011; Botha 2015, 2016, 2018; Naidoo en Peterson 2015).

Prominente figure op die gebied van onderwysverandering en skoolhervorming, soos Hallinger en Heck (2011) en Van der Westhuizen (2013), het aangevoer dat die welslae van onderwysverandering en skoolhervormings in ’n groot mate sal afhang van die gehalte van en tipe leierskap in skole. Daarbenewens was daar in die onlangse verlede ’n neiging by kundiges op die terrein van onderwysleierskap om die parameters van skoolleierskap te beperk tot aangeleenthede wat regstreeks op die betrokke instelling van toepassing is. Daar word egter in hierdie verband wyd erken dat sowel die professionele as die leierskaprol van die skoolhoof nie net geraak word deur faktore binne die skool self nie, maar veral deur eksterne faktore en omstandighede buite die skool (vgl. Botha en Marishane 2011; Hallinger en Heck 2011; Wolhuter 2011; Theron 2013; Botha en Triegaardt 2015; Botha 2014, 2015, 2016, 2019).

Een van die eksterne faktore wat druk op ’n skool en sy leierskorps kan uitoefen is die vereiste dat die skool as ’n organisasie van onderrig en leer toenemend meer doeltreffender en suksesvoller moet funksioneer, maar steeds relevant moet bly in die veranderende kultuurhistoriese konteks waarin die omliggende gemeenskap funksioneer. Talle Suid-Afrikaanse skole, in die besonder in landelike gebiede, ondervind eksterne druk van hierdie aard as gevolg van byvoorbeeld die modernisering van die omliggende gemeenskap, werkloosheid en armoede (Compion, Steyn, Wolhuter en Van der Walt 2012; Botha 2015, 2016).

Die uitwerking van enkele eksterne kontekstuele faktore op die professionele aktiwiteite van skoolleiers word in hierdie artikel bespreek aan die hand van ’n bepaalde teoretiese raamwerk (deur `n spesifieke lens), naamlik die kultuurhistoriese aktiwiteitsteorie (KHAT), wat die potensiaal het om aan te toon hoe skoolleiers in Suid-Afrika op hierdie faktore behoort te reageer. Die gekose perspektief of lens (die KHAT) behoort te lei tot ’n vollediger konseptualisering van skool- en onderwysleierskap aangesien dit ook die eksterne kontekstuele faktore wat noodsaaklik is vir skoolverbetering in ag neem.

Dit is noodsaaklik dat skoolleiers altyd moet probeer verbeter en groei om sodoende stagnasie te vermy. Botha en Marishane (2011:16) stel dit duidelik wanneer hulle opmerk: “No school leader should ever stagnate; this will lead to ineffective schools.” Om dié rede moet hoofde van skole in Suid-Afrika, soos hulle eweknieë in ander lande, voortdurend betrokke bly by leierskapsaktiwiteite soos aan die hand van die KHAT beskryf kan word. Skoolhoofde in veral ontwikkelende lande behoort nuutaangeleerde kennis en insigte met betrekking tot leierskap in onderwys te omarm weens die eiesoortige probleme soos armoede, werkloosheid en ongeletterdheid waarmee sommige skole in hierdie kategorie lande te kampe het. Nuutaangeleerde kennis en insigte verwys hier spesifiek na kennis en insigte ten opsigte van leierskap en bestuur, onderrig en leer, die kurrikulum, onderwysfinansiering, personeel- en ondersteuningsdienste en dissipline, om net party van die standaardsleutelgebiede in die konteks van onderwysstelsels te noem. Voorts moet die leierskapsaktiwiteite van skoolhoofde illustreer in welke mate hulle reeds vertroud is met die bykomende kontekstuele aangeleenthede wat eie aan Suid-Afrika is en dat hulle met die verwerfde insigte kan bydra tot die gehalte en uitkomste van hulle onderskeie skole (Wolhuter 2011; Botha 2015, 2016, 2019).

Anders gestel: Benewens die standaardkennis en -vaardighede waaroor alle skoolhoofde behoort te beskik, moet Suid-Afrikaanse skoolhoofde hulself afvra wat hulle behoort te weet van die wêreld om hulle wat uniek is en wat mag verskil van die situasie in ander lande. Die antwoord op hierdie vraag sal afhang van die besondere omstandighede en faktore wat Suid-Afrikaanse skole beïnvloed, die plaaslike toestande en die besondere behoeftes van die skool en die gemeenskap waarin dit geleë is. Hierdie faktore en omstandighede sal vervolgens in die studie deur die heuristiese lens van die KHAT bekyk word.

 

2. Kultuurhistoriese aktiwiteitsteorie as teoretiese raamwerk

Verskeie teorieë wat die dinamiek van in ’n gemeenskap en/of skool verduidelik, spesifiek wanneer snelle verandering en ontwikkeling plaasvind, is as lens vir hierdie studie oorweeg. Daar is op die kultuurhistoriese aktiwiteitsteorie, oftewel die KHAT, besluit om die studie te rig, want dit wil voorkom of dit meer ondersoekpotensiaal het as byvoorbeeld die sosiale-aksieteorie (SAT) of kritiese teorie (Halverson 2002). Die KHAT is oorspronklik in die 1930’s deur die Russiese sielkundiges Lev Vygotsky en Aleksei Leontiev ontwikkel as ’n teoretiese raamwerk om te help om die verhouding tussen die menslike verstand (wat mense dink en voel) en aktiwiteit (wat mense doen) te verstaan en te ontleed. Dit gee belangrike insig in die dinamiek van die bewussyn, wat deur die geskiedenis van elke individu se sosiale en kulturele ervaring gevorm word (Postholm 2015).

Die doel van hierdie studie vereis nie dat ’n gedetailleerde studie van die oorsprong of evolusie van die KHAT onderneem word nie, want dit word in ’n verskeidenheid van bronne aangespreek (vgl. Engeström en Sannino 2010; Asghar 2013; Stetsenko en Arievitch 2014; Yamagata-Lynch 2014; Postholm 2015).

Sedert die 1990’s het die KHAT opnuut en toenemend belangstelling by akademici oor die hele wêreld gewek (Blunden 2011, Yamagata-Lynch 2014, Postholm 2015). Sedert dit vir die eerste keer ontwikkel is, was die KHAT gemik op die verhouding tussen mense en hulle omgewing, in die besonder individue se interaksie met kulturele, historiese en institusionele agtergronde (Yamagata-Lynch 2014). Dit het Postholm (2015:43) genoop om die KHAT te beskryf as ’n “useful research approach for studying change in uncertain times”.

Die KHAT verskil van vorige konteksonafhanklike identiteitsbegrippe in die sin dat die self beskou word as ingebed in en intrinsiek verweef met sosiokulturele en historiese prosesse. Navorsers op die gebied van die KHAT aanvaar die uitdaging van “rendering an account of ‘the self’ as a profoundly social phenomenon, yet at the same time as real, agentive and unique” (Stetsenko en Arievitch 2014:476). Volgens Leontiev (in Stetsenko en Arievitch 2014) kan die KHAT beskou word as ’n transaksionele benadering omdat dit ’n beeld van die menslike natuur en ontwikkeling bied as geanker in menslike sosiale interaksies en menslike subjektiwiteit. Hierdie KHAT-benadering ontstaan dus vanuit menslike sosiale interaksies en menslike subjektiwiteit en beklemtoon vervolgens die ontologiese eenheid van interindividuele prosesse (byvoorbeeld tussen individue in organisasies), asook die intra-individuele prosesse (byvoorbeeld binne individue in organisasies) as onderling afhanklike pole (Yew 2013; Tan 2014; Yamagata-Lynch 2014).

Aan die hand van die KHAT verteenwoordig die onderwerp (subjek) die kontekstuele of omgewingsfaktore en die voorwerp (objek) die skoolleier wat daarvolgens optree. Die subjek is dus ’n entiteit wat ’n verhouding het met ’n ander entiteit wat buite homself bestaan, naamlik die objek. Hoewel daar volgens die KHAT groot bewustheid van die individualiteit van die sogenaamde objek (in die geval die skoolleier) is, is daar ook waardering vir die sosiale en ander kontekste van die self; daar is stabiliteit en uitruiling tussen individue en hulle kontekste. Die gevolg van hierdie siening van die individu (as objek) is dat die self van die individu nie beskou word as vas, voorafbepaal of onafhanklik van die sosiale prosesse (byvoorbeeld in ’n skool, gemeenskap of land) nie. Die self van die individu word eerder gesien as gewortel in duidelik omskrewe patrone van sosiale praktyk. Die verhouding tussen die individu en die konteks is wederkerig en verbandhoudend; die individu is dus voortdurend betrokke in verhoudings met ander individue of groepe individue in sy direkte of selfs indirekte omgewings (Stetsenko en Arievitch 2014; Postholm 2015).

Volgens die KHAT is die sosiale omgewing nie net ’n sosiale faktor in individue se lewe nie, maar ’n bron van verandering en ontwikkeling (Veresov 2010). Die konsep van teenstrydigheid speel ’n belangrike rol in die KHAT. Teenstrydighede neem die vorm aan van histories gevormde spanning wat in werklike aktiwiteitstelsels bespeur en hanteer kan word. Belangriker is dat teenstrydighede basies “the driving force of transformation” is (Engeström en Sannino 2010:4).

De Beer en Henning (2011), sowel as Stetsenko en Arievitch (2014), stel soortgelyke standpunte wanneer hulle verduidelik dat gemeenskapsaktiwiteite onvermydelik lei tot konflik om verandering te genereer. Lampert-Shepel (2008) meen dit is veral die geval in situasies van toenemende diversiteit en verskuiwings in morele en intellektuele paradigmas wat tot billikheidskwessies, veelvuldige teenstrydige hervormings en magsdifferensiale mag aanleiding gee (wat noodwendig in ’n ontwikkelende land soos Suid-Afrika teenwoordig sal wees). Wanneer verandering voorkom sal dit die ander elemente van die gemeenskap se aktiwiteitstelsel raak en dus ook die skool wat in diens van daardie gemeenskap staan (Engeström en Sannino 2010).

Daar is ’n wye verskeidenheid definisies van skoolleierskap (Helmrich 2015) en teorieë van leierskap (onder meer teorieë wat met persoonlikheid, leierskapstyl en situasies geassosieer word). Dempster (2009:42) se definisie van leierskap is vervolgens in hierdie studie gebruik om te demonstreer hoe die KHAT die dinamiek van skoolleierskap volgens ’n aktiwiteitstelsel kan verduidelik; dit wil sê skoolleiers is objekte, “ineluctably socially and historically specific individuals (i.e. unique in terms of time, place and history) working with others and mobilising them in a specific context to articulate and achieve shared intentions to enhance the learning and the lives of learners” (dit wil sê die subjek of uitkoms van die proses). Die skoolhoof (objek), as ’n skoolleier, streef daarna om die skool as ’n “community with its own rules and division of tasks” (Stetsenko en Arievitch 2014:497) te verbeter.

Die term konteks, soos in Dempster se definisie van leierskap gebruik, kan ook met die KHAT verbind word (vgl. Halverson 2002; De Beer en Henning 2011). Hieroor verduidelik Dempster (2009:43) dat “the school is not an island, but part of a global village; … there are wider worlds in which schools work ... global influences … as well as national legislative, policy and regulatory requirements”. Skole en skoolhoofde het dus nie net te doen met ’n plaaslike maatskaplike, kulturele, historiese en geografiese skoolkonteks nie, maar moet ook die uitdagings aanvaar wat vanuit breër kontekste gerig word. Wat die KHAT betref, moet ’n skool nie net interne kontekstuele faktore wat uit sy eie organisatoriese dinamiek voortspruit die hoof bied nie, maar ook die eksterne kontekstuele faktore afkomstig van die omliggende gemeenskap en die breër wêreld buite die gemeenskap. Die professionele rol van die skoolhoof as ’n onderwysleier word gevolglik gedeeltelik gevorm deur sodanige eksterne faktore en kragte (Stetsenko en Arievitch 2014; Peet en Hartwick 2015; Botha 2019).

Die professionele rol van die skoolhoof as skoolleier word in die studie toegelig aan die hand van sommige van die eksternedrukfaktore waarmee skole en skoolleiers in ’n ontwikkelende land soos Suid-Afrika tans mee te kampe het. Dié drukfaktore kan in drie duidelik afgebakende kategorieë verdeel word, naamlik druk wat uitgeoefen word deur die onderwysstelsel waarvan die skool deel is; druk uitgeoefen deur die breër konteks waarin die skool funksioneer; en die druk uitgeoefen deur internasionale ontwikkelings (Dempster 2009; Theron 2013; Botha 2015, 2016).

Dit bring my vervolgens tot die navorsingsvraag en doelwit van die studie.

 

3. Navorsingsvraag en doelwit van die studie

Die belangrike navorsingsvraag wat in hierdie studie ondersoek word, kan soos volg verwoord word: Hoe moet skoolleierskap in Suid-Afrikaanse skole benader word in reaksie op die eksterne kontekstuele faktore wat ’n effek het op die wyse waarop die skoolhoof die skool bestuur en lei? Die belangrikste oogmerk van die studie was om deel te neem aan die diskoers oor organisatoriese leierskap en verandering in onderwysinstellings in ’n ontwikkelende land soos Suid-Afrika deur ’n tentatiewe antwoord op bogenoemde navorsingsvraag te gee. Die doel met die onderliggende navorsing was om, vanuit die KHAT-perspektief, ’n moontlike verklaring te bied vir die optrede van skoolhoofde in die lig van sekere vooraf geïdentifiseerde kontekstuele faktore wat moontlik hul leierskapspraktyke in hulle onderskeie skole mag beïnvloed.

 

4. Navorsingsontwerp

Daar is ’n totaal van 163 sekondêre skole in die Johannesburg-area van Gauteng (GDO 2020), wat die populasie van die studie verteenwoordig. Uit hierdie populasie van 163, is ’n totaal van 50 sekondêre skole doelgerig as steekproef gekies om deel te wees van die studie.

Die hoofoorweging met die doelgerigte steekproef was om skole te betrek wat geografies makliker bereikbaar met betrekking tot afstand as ander was. Daar is egter gepoog om met die steekproef doelbewus sekondêre skole uit ’n wye verskeidenheid sosioëkonomiese gemeenskappe uit die geografiese gebied in Gauteng te kies. Tydens die proses is nie slegs voormalige model C-skole in die steekproef ingesluit nie, maar ook skole uit voorheen benadeelde gemeenskappe. Vyftig (n=50) skoolhoofde (een per skool) is vervolgens in die steekproef as respondente gebruik.

Die studie het berus op ’n kombinasie van ’n literatuur- en ’n empiriese studie. Die literatuurfase was beskrywend van aard, terwyl die empiriese studie kwantitatief van aard was. Die doel van kwantitatiewe navorsing is om kennis te genereer en begrip vir die sosiale wêreld te skep. Kwantitatiewe navorsing word hoofsaaklik deur sosiale wetenskaplikes gebruik om verskynsels of voorvalle wat individue beïnvloed, waar te neem. Sosiale wetenskaplikes is bemoeid met die studie van mense. Kwantitatiewe navorsing word gebruik om die probleem te kwantifiseer deur numeriese data of data wat in bruikbare statistieke omgeskakel kan word, te genereer (McMillan en Schumacher 2010). Dit word gebruik om houdings, menings, gedrag en ander gedefinieerde veranderlikes te kwantifiseer om sodoende resultate van ’n groter steekproefpopulasie te veralgemeen. Kwantitatiewe studies is oor die algemeen meer betroubaar en objektief, omdat statistieke gebruik kan word om ’n bevinding te veralgemeen om sodoende ’n ingewikkelde probleem op te los (Hallinger en Heck 2011; De Vos en Delport 2012). Op grond hiervan is daar besluit om hierdie metode te gebruik, alhoewel die metode soms respondente beperk wat hulle response betref.

Die navorsingsinstrument wat gebruik is om data van die respondente te verkry, was ’n tematies gestruktureerde vraelys wat aangepas is uit ’n leierskapsontwikkelingsraamwerk, opgestel deur Piggot-Irvine, Howse en Richard (2013). Die vraelys het ’n vyfpunt-Likertskaal gebruik om kwantitatiewe data te versamel in verband met kontekstuele faktore wat die deelnemers as relevant beskou het en wat na hulle mening moontlik ’n uitwerking op hulle professionele leierskapsaktiwiteite het.

Die geldigheid en betroubaarheid van die instrument is deeglik in ag geneem. Geldigheid, soos omskryf deur De Vos en Delport (2012:172), verwys na “die mate waarin ’n empiriese maatstaf die werklike betekenis van die konsep wat oorweeg word, voldoende weerspieël en dat waarheid, akkuraatheid en egtheid sinonieme vir geldigheid is”. Dit impliseer dat die ontwerp van die meetinstrument (Likert-vraelys) geldig moet wees sodat die insameling van data tot ’n akkurate gevolgtrekking kan lei en dat die vraelys uiteindelik meet wat dit bedoel is om te meet. Enkele maatreëls is getref om die geldigheid en betroubaarheid van die Likert-vraelys te verseker, naamlik:

  • Inhoudsgeldigheid: Dit is “’n soort metingsgeldigheid wat vereis dat ’n maatstaf alle aspekte van die konseptuele definisie van ’n konstruk verteenwoordig” (Neuman, 2014:212). Daarom moet die vraelys kan bepaal wat dit veronderstel is om te bepaal; in hierdie geval om vanuit die KHAT-perspektief ’n moontlike verklaring te bied vir die optrede van skoolhoofde in die lig van sekere vooraf geïdentifiseerde kontekstuele faktore wat moontlik hul leierskapspraktyke in hulle onderskeie skole mag beïnvloed.
  • Betroubaarheid: Dit verwys volgens De Vos en Delport (2012:177) “na wanneer ’n instrument dieselfde ding meer as een keer meet en dieselfde uitkoms tot gevolg het, wat die stabiliteit of konsekwentheid van die meting aandui”. Daar is verskillende maniere om betroubaarheid te verseker. Om te verseker dat die items in die vraelys betroubaar was, is Cronbach se alfakoëffisiënt bereken (0,61) om interne konsekwentheid/betroubaarheid te meet en daar is bevind dat dit op ’n aanvaarbare vlak is en goed vergelyk met McMillan en Schumacher (2010) se aanvaarbaarheidsvereiste van 0,7.

Ses kontekstuele faktore is vervolgens geïdentifiseer as faktore wat ’n moontlike verband het met skoolleierskap en waarmee die skoolhoofde moontlik ontwikkelingsteun nodig het. Hierdie kontekstuele faktore was modernisering; die maatskaplike konteks van die samelewing; demografie; wetenskap en tegnologie; inligting en die kennisontploffing; en desentralisasie en skoolgebaseerde bestuur. Die data wat van die deelnemers verkry is, is volgens hierdie ses geïdentifiseerde kontekstuele faktore bespreek. Dit kan moontlik as ’n tekortkoming in die studie beskou word dat deelnemers slegs uit die vasgestelde lys kon kies en daar nie ruimte gelaat is vir deelnemers om self kontekstuele faktore te identifiseer nie. Hierdie aspek sal egter in ’n opvolgstudie oor die aangeleentheid aandag geniet.

Aangesien die studie kwantitatief van aard was, het die items uit geslote vrae bestaan. Deelnemers is versoek om die items te beantwoord ten einde op grond van die KHAT vas te stel wat hulle siening van sommige van die eksterne kontekstuele faktore is wat ’n uitwerking op hulle werk as skoolleiers het. Vraelyste is persoonlik by skole afgelewer met die toepaslike ander dokumentasie en weer na ’n tydperk van twee weke by die skole afgehaal. Die response van die 50 skoolhoofdeelnemers van Gautengse skole is aan statistiese ontleding onderwerp met behulp van die eenvoudige berekening van frekwensies en persentasies.

 

5. Enkele etiese oorwegings

Outeurs soos De Vos en Delport (2012) beklemtoon dat aspekte soos anonimiteit en vertroulikheid tydens empiriese navorsing twee etiese aspekte is wat ten alle tye deur die navorser eerbiedig moet word. De Vos en Delport (2012:119) beskryf vertroulikheid as volg: “Confidentiality can be viewed as a continuation of privacy, which refers to an agreement between persons that information of a person taking part in a study may not be disclosed.” Dit was dus ononderhandelbaar dat die deelnemers aan die studie anoniem bly en dat alle inligting ingesamel vertroulik bly.

Daarbenewens moes ingeligte toestemming ook vanaf alle respondente verkry word. Toestemming is deur middel van ’n dekbrief verkry wat aan elkeen van die 50 deelnemers uitgestuur is en waarin die aard en omvang van die studie uiteengesit is. Hierin is hulle dan ook verseker dat alle inligting versamel vertroulik hanteer sal word en dat hulle ten enige tyd aan die studie kon onttrek indien hulle so verkies. Sodoende is die regte en privaatheid van elke deelnemer beskerm.

 

6. Ontleding en bespreking van die navorsingsbevindings

Die bespreking van die resultate van die kwantitatiewe fase van die studie wat fokus op die deelnemers aan die studie se sienings van die eksterne kontekstuele faktore wat ’n uitwerking op hul professionele leierskapspraktyke en gevolglik op hul onderskeie skole het en hoe dit met die KHAT verband hou, sal vervolgens bespreek word.

6.1 Modernisering vanuit die KHAT-lens

In die sosiale wetenskappe verwys die konsep van modernisering na ’n model van ’n evolusionêre oorgang van ’n pre-moderne of tradisionele na ’n moderne samelewing, terwyl historici modernisering hoofsaaklik verbind met die proses van verstedeliking en industrialisering, asook met die uitbreding van opleiding. Dit verwys heel dikwels na ’n totale ommeswaai in denke en handelswyses, ook op die gebied van die onderwys (Kendall 2007).

In hulle dikwels aangehaalde klassieke publikasie oor die moderniseringsteorie beskryf Inkeles en Smith (1974) modernisering as die proses waarin mense moderner word in die sin dat hulle leer om meer oop te wees vir nuwe ervarings; dat hulle in staat is om oortuigings te vorm op grond van rasionele argumentering en onafhanklike kritiese denke eerder as op grond van tradisionele oortuigings oorgelewer van ouers na kinders; dat hulle vertroue het in hulle vermoë om hul eie lewens te reël en uitdagings te oorkom; en dat hulle vertroue het in die mens as die dominante mag met betrekking tot die omgewing.

Die proses van moderner en meer ontwikkeld word kan vervolgens ook deur die lens van die KHAT beskou word. ’n Land (gesien as ’n objek) kan beskou word as betrokke by die aktiwiteitstelsel van groei en verander tot groter ontwikkeling (die subjek of doelwit van ’n beoogde uitkoms). In hierdie proses wend dit ’n verskeidenheid bemiddelende faktore aan, soos belastinginvorderingstegnieke, beter mynbou- en landboutegnieke, en ’n verbeterde onderwysstelsel. Die betrokke land kan dit dus nodig vind om sy begrip van gemeenskap te herdefinieer (’n mens dink byvoorbeeld aan Suid-Afrika, wat ná 1994 sigself die “reënboognasie” begin noem het), met ’n gepaardgaande herdefinisie van reëls en die hertoewysing van take (Wolhuter 2011; Sanford 2013; Van der Westhuizen 2013).

Deelnemers aan die empiriese studie het modernisering geïdentifiseer as een van die relevante kontekstuele faktore wat ’n uitwerking op hulle werk het. Die data in tabel 1 toon aan daar was 16 response van “stem volmondig saam” (32%), terwyl die response van “stem saam” 20% hoër was op 26 (52%). Daar was 4 response van “kan nie besluit nie” (8%), 2 van “stem nie saam nie” (4%), en 2 van “stem glad nie saam nie” (4%). Die oorgrote meerderheid response (84%) het gevolglik die stelling ondersteun dat modernisering as kontekstuele faktor ’n wesenlike uitwerking op skoolhoofde se professionele leierskapsaktiwiteite kan hê. Die respons kon geantisipeer word in ag genome die geweldige pas waarteen modernisering in die hedendaagse samelewing plaasvind. Aspekte soos rekenaars, die internet en die gebruik van sosiale media verteenwoordig kontekstuele faktore wat nuwe uitdagings aan die skoolleier se leierskapspraktyke stel.

Tabel 1. Modernisering

Opsies op die Likert-skaal

Frekwensie

Persentasie

Stem volmondig saam

16

32%

Stem saam

26

52%

Kan nie besluit nie

4

8%

Stem nie saam nie

2

4%

Stem glad nie saam nie

2

4%

Totaal

50

100%

 

6.2 Die maatskaplike konteks vanuit die KHAT-lens

Hoewel ondersteuners van die KHAT, soos Stetsenko en Arievitch (2014), die belang van die maatskaplike omgewing as ’n eksterne faktor erken, het dié faktor nog nooit in die opvoedkundige konteks so prominent gefigureer soos sommige van die ander kontekstuele faktore nie. Stetsenko en Arievitch (2014:476) beskou hierdie faktor as deel van die “transition between the self [in hierdie geval die skoolhoof as objek] and the broader socio-cultural processes [kontekstuele faktore as subjekte]”. Dit impliseer dat ’n skoolhoof deur maatskaplike faktore in die samelewing gevorm word en insette tot die samelewing lewer; dit gee te kenne dat hy/sy nie net deur die geskiedenis geskep word nie, maar ook sy/haar eie geskiedenis skep. Hierdie verband met die KHAT maak identiteit en identiteitsprosesse belangrik in die werkslewe van ’n skoolhoof, waarin hy/sy in staat is om die maatskaplike wêreld waarin hy/sy bestaan, te help konstrueer (Oswald en Perold 2015).

In hierdie maatskaplike konteks van die moderne samelewing behoort die skoolhoof, veral in ’n land soos Suid-Afrika, te alle tye gereed te wees om te midde van ’n gebrek aan doeltreffende openbare dienste in die land te funksioneer; ook met betrekking tot die openbare onderwysstelsel (Fukuyama 2014). In dié scenario en konteks behoort die skoolleier voortdurend nuwe en relevante maniere te vind om dié tekortkoming in die onderwysstelsel en probleme wat daarmee gepaard gaan (en dus noodgedwonge deurvloei na hul onderskeie skole) te aan te spreek.

Daar behoort byvoorbeeld ’n bewustheid en begrip onder skoolleiers te wees dat die skoolkurrikulum in Suid-Afrika steeds sterk beïnvloed word deur die modelle wat geërf is by die koloniale en die apartheidstydperk, waaraan deskundiges op die gebied van postkoloniale en wêreldstelselontleding ons uit die aard van die saak gedurig herinner (Wolhuter 2011). Die aspek beklemtoon die behoefte aan die verinheemsing van die kurrikulum ooreenkomstig die behoeftes en kontekste van die land. Bogenoemde neiging blyk nêrens duideliker as in Suid-Afrika nie, waar die oproep om gedekoloniseerde kurrikula aan die orde van die dag is. Nog ’n voorbeeld van die invloed van die maatskaplike kontekstuele faktor is die manier waarop gemeenskappe en skole deur omgewingskrisisse geraak word, byvoorbeeld aardverwarming; atmosferiese, water- en seebesoedeling; gronderosie en -uitputting; die vernietiging van mariene hulpbronne; varswateruitputting; ontbossing; en die vernietiging van biodiversiteit (United Nations 2016).

Met betrekking tot hierdie kontekstuele faktor het die respondente oorweldigend aangedui dat ’n skoolhoof vertroud moet wees met die maatskaplike vraagstukke in die omliggende gemeenskap. Die skoolhoof moet kennis neem van die toestande wat eiesoortig aan die funksionering van die omliggende gemeenskap en die skool self is. Skoolleiers in Suid-Afrika bevind hulle in ’n snel veranderende maatskaplike konteks en hulle skole kom as gevolg daarvan voor talle uitdagings te staan. Dié faktore sluit druk in wat uitgeoefen word deur die onderwysstelsel waarvan die skole deel is, druk afkomstig van die breër konteks waarin die skole funksioneer, asook druk meegebring deur onlangse internasionale ontwikkelings (Wolhuter 2011).

Tabel 2. Die maatskaplike konteks van die samelewing

Opsies op die Likert-skaal

Frekwensie

Persentasie

Stem volmondig saam

20

40%

Stem saam

28

56%

Kan nie besluit nie

2

4%

Stem nie saam nie

0

0%

Stem glad nie saam nie

0

0%

Totaal

50

100%

 

Die data in tabel 2 toon aan daar was 20 response van “stem volmondig saam” (40%), met die aantal response van “stem saam” effens hoër op 28 (56%). Daar was slegs 2 response van “kan nie besluit nie” (4%), en geen response van “stem nie saam nie” of “stem glad nie saam nie”. Die ontleding toon dat die oorgrote meerderheid (96%) die stelling ondersteun het dat die maatskaplike konteks van die samelewing as kontekstuele faktor ’n enorme uitwerking op hulle professionele aktiwiteite het. Aangesien 48 (96%) van die deelnemers met hierdie stelling saamgestem het (die grootste persentasie van deelnemers wat saamgestem het oor enige van die kontekstuele faktore), is hierdie faktor as die belangrikste van die ses faktore waarop respondente moes antwoord geag.

6.3 Demografiese faktore vanuit die KHAT-lens

’n Sensus is ’n versameling van die demografiese faktore wat met elke lid van ’n populasie geassosieer word. Demografiese faktore het betrekking op sosioëkonomiese eienskappe van ’n populasie, statisties uitgedruk in kategorieë soos byvoorbeeld ouderdom, geslag, onderwysvlak, inkomstevlak, huwelikstaat, beroep, geboortekoers, sterftekoers, gemiddelde gesinsgrootte en gemiddelde ouderdom waarop mense in die huwelik tree (Botha 2015). Demografiese verskynsels wat onderwys beïnvloed sluit die volgende in: die wêreldbevolkingsontploffing (Friedman 2009, United Nations 2016), wat veral in ontwikkelende lande soos Suid-Afrika merkbaar is, aangesien hulle ’n groeiende persentasie van die wêreldbevolking dra (Azernert 2014); die feit dat die ouderdomsprofiel van Suid-Afrikaanse burgers aan die verander is deurdat die bevolking jonger word; die feit dat daar ’n toenemende beweging van mense uit buurlande soos Zimbabwe en Mosambiek na Suid-Afrika is; en faktore soos verstedeliking en die gevolglike toename in informele nedersettings (sogenaamde krotbuurte of plakkerskampe) in groot stede waarvoor skole voorsiening moet maak (Wolhuter 2011).

Aangesien Suid-Afrikaanse skole te kampe het met voortdurend groeiende getalle leerderinskrywings, moet spesiale aandag geskenk word aan die ontwikkeling van en verandering in hierdie skole, veral omdat hulle geografiese, historiese en kulturele toestande verskil van skole in meer ontwikkelde lande (Botha 2015). Suid-Afrikaanse skoolhoofde moet byvoorbeeld daarvan bewus wees dat die belangrikheid van die primêre maatskaplike groepering, naamlik die gesin, vanweë trekarbeid aan die afneem is. Skole sal planne moet beraam om vir die uitwerking van hierdie neiging die hoof te bied. In die proses sal skoolhoofde moet kennis dra van die toename in multikulturele samelewings en multikulturalisme as gevolg van die menseregteoortuigings wat veral sedert die middel van die 20ste eeu groot momentum gekry het. Dieselfde geld vir die erkenning van minderheidsbelangegroepe, soos dié wat hulle beywer vir vroueregte, geslagsgelykheid, ekobewustheid asook ander verwante aangeleenthede (Oswald en Perold 2015).

Suid-Afrika, as ’n ontluikende ekonomiese mark, maak vordering op ekonomiese gebied, maar die gehalte van onderwys en die ongelyke verspreiding van rykdom, met die gevolglike armoede in sekere sektore van die land, het ’n ernstige inhiberende uitwerking op verdere ekonomiese groei. Die swak gehalte van onderwys duur voort, ondanks die feit dat verandering ’n integrerende deel van die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel geword het. Talle beleidsveranderinge en latere veranderingsinisiatiewe op skoolvlak het nie tot genoegsame vordering gelei nie. Een van die redes vir die swak uitwerking van onderwyshervormings is dat die belangrike rol van onderwysers se identiteite nie genoegsaam oorweeg word wanneer dié beroepslui hulle in nuwe benaderings tot en gebruike in die onderwys moet posisioneer nie. Volgens Grubb en Flessa (2006) is leer nodig in tydperke van innovering en verandering. Dié outeurs voer aan dat volhoubare veranderinge in skole nie moontlik sal wees sonder veranderinge in onderwysers se persoonlike identiteite nie.

In die lig van die bespreking is dit dus nie vreemd dat ondersteuners van die KHAT, soos Blunden (2011), Stetsenko en Arievitch (2014) sowel as Yamagata-Lynch (2014), demografie as kontekstuele faktor as ’n uiters belangrike faktor beskou nie. Dit is aan die hand van die KHAT voor die hand liggend dat die skoolhoof (as objek) se leierskapspraktyke deur demografiese aspekte soos ouderdom, geslag, onderwysvlak, inkomstevlak, huwelikstaat, beroep, geboortekoers, sterftekoers, gemiddelde gesinsgrootte, ouderdomsprofiel, migrasie en verstedeliking (as subjekte) bepaal word.

Tabel 3. Demografie

Opsies op die Likert-skaal

Frekwensie

Persentasie

Stem volmondig saam

10

20%

Stem saam

14

28%

Kan nie besluit nie

12

24%

Stem nie saam nie

10

20%

Stem glad nie saam nie

4

8%

Totaal

50

100%

 

In die lig van bostaande bespreking was dit verrassend om te sien dat die deelnemers hierdie faktor nie as besonder belangrik geag het nie. Die data in tabel 3 toon 10 response van “stem volmondig saam” (20%), terwyl response van “stem saam” effens hoër was op 14 (28%). Dit beteken dat net minder as die helfte van die respondente hierdie faktor nie as enigsins belangrik beskou het nie. Die frekwensie van response van “kan nie besluit nie” was hoog op 12 (24%), terwyl geen response van “stem nie saam nie” en 4 (8%) van “stem glad nie saam nie” opgeteken is. Die ontleding toon dat minder as die helfte (48%) van die respondente die stelling ondersteun dat demografie as kontekstuele faktor ’n beduidende uitwerking op hulle professionele aktiwiteite het. Hierdie bevinding is in teenstelling met bevindinge van byvoorbeeld Postholm (2015) en Peet en Hartwick (2015) wat onteenseglik vanuit die KHAT-lens die belangrikheid van demografie as ’n eksterne faktor in die onderwysopset beklemtoon.

Hierdie diskrepansie kan moontlik toegeskryf word aan die feit dat sommige van die respondente nie verstaan het wat demografiese faktore in totaliteit behels nie. Op die keper beskou kan dit as ’n leemte of beperking in die studie beskou word dat deelnemers nie vooraf in detail ingelig is oor wat ’n kontekstuele faktor soos demografie in al sy nuanses behels nie. Die scenario geld heel waarskynlik ook vir ander kontekstuele faktore waaroor respondente moes antwoord as deel van die studie.

6.4 Wetenskap en tegnologie vanuit die KHAT-lens

Wetenskap en tegnologie is twee kontekstuele faktore wat hand aan hand gaan en dus vervolgens saam bespreek word. Die term wetenskap verteenwoordig die gesamentlike uitdruklike kennis van die mensdom met betrekking tot feite, verskynsels en wette wat ontwikkel is deur waarneming, eksperimentering en logiese beredenering (Sanford 2013), terwyl die term tegnologie gebruik word om uitvindings en gereedskap wat gebruik word om wetenskaplike beginsels en prosesse te beskryf verteenwoordig (Kendall 2007). Nuwe tendense op die gebied van die wetenskap en tegnologie kan dus gesien word as veranderinge in die mensdom se kennisvlak. Op hierdie gebied het die skoolleier, as onderrigleier, ’n wesenlike rol te speel. Die ontwikkelings in die wetenskap en tegnologie is dus gevolglik kontekstuele faktore wat nou met dié van modernisering saamhang.

Aan die hand van die KHAT staan die skoolleier (die objek) sentraal tot ’n sisteem waarin die asemrowende veranderinge in die wetenskap en tegnologie (die subjekte) die skoolleier se leierskapspraktyke rig. In hierdie verband merk ’n KHAT-voorstander soos Dempster (2009) tereg op dat die skool nie as ’n eiland funksioneer nie, maar deel van die groter globale werklikheid is. Nuwe tendense in die wetenskap en tegnologie is dus kontekstuele faktore wat deeglik deur enige skoolleier in ag geneem moet word. Halverson (2002), nog ’n KHAT-voorstander, beklemtoon op sy beurt juis die aspekte van vordering op die gebied van die wetenskap en tegnologie as een van die belangrikste eksterne faktore wat ’n invloed op die skool en sy inherente funksionering uitoefen.

Deelnemers in die studie is gevra wat hulle siening van die wetenskap en tegnologie as eksterne kontekstuele faktore is en hoe dit hulle leierskapspraktyke beïnvloed. Hulle het as volg reageer:

Tabel 4. Wetenskap en tegnologie

Opsies op die Likert-skaal

Frekwensie

Persentasie

Stem volmondig saam

8

16%

Stem saam

10

20%

Kan nie besluit nie

10

20%

Stem nie saam nie

12

24%

Stem glad nie saam nie

10

20%

Totaal

50

100%

 

Die data in tabel 4 het aangedui dat daar 8 response (16%) van “stem volmondig saam” was en effens meer response (10) van “stem saam” was (20%). Die frekwensie van response van “kan nie besluit nie”, 10, is hoog (20%), en daar was 12 response van “stem nie saam nie” (24%) en 10 van “stem glad nie saam nie” (20%). Die meeste deelnemers (64%) was dus onseker oor die stelling dat wetenskap en tegnologie as kontekstuele faktor ’n beduidende uitwerking op hulle professionele aktiwiteite het, of het dit nie gesteun nie. Selfs al erken ondersteuners van die KHAT, soos Yew (2013) en Yamagata-Lynch (2014), die belangrikheid van wetenskap en tegnologie as ’n eksterne faktor, het die deelnemers hierdie faktor nie so belangrik soos ander faktore geag nie. Weer eens kan die respons moontlik toegeskryf word aan die feit dat respondente nie heeltemal seker was wat hierdie kontekstuele faktore in al sy nuanses behels nie.

6.5 Inligting en die kennisontploffing vanuit die KHAT-lens

Daar is geen aktiwiteit in die samelewing waarby inligting nie betrokke is nie. Toe die mens begin besef wat hy met die kennis kan doen wat uit inligting voortspruit, het daar feitlik ’n kennisontploffing plaasgevind. Terwyl dit vroeër as vanselfsprekend aanvaar is, word inligting deesdae doeltreffend benut en in ’n verskeidenheid van dissiplines toegepas. In die hedendaagse onderwysstelsels moet leerders blootgestel word aan inligting om sodoende lewenslange leerders te word. In die proses speel die skoolleier ’n kritiese rol en kan die kennisontploffing as die kontekstuele faktor gesien word wat die skoolleier se taak ten nouste raak.

Skoolhoofde in Suid-Afrika behoort toenemend te verstaan waar hulle skole en personeel staan met betrekking tot die nuwe inligting (kennis) en die gevolglike kennisontploffing. Aan die hand van die KHAT staan die skoolleier (die objek) sentraal tot nuwe inligting en die kennisontploffing (die subjekte) en dit is die skoolleier se taak om sy leierskapspraktyke dienooreenkomstig te rig. KHAT-aanhangers soos Barnett en Sagor (2014), sowel as Yamagata-Lynch (2014), beskryf die kennisontploffing aan die hand van verskeie fases in die verloop van lande se nasionale ekonomieë. ’n Basiese kennis van die verskillende fases sal ’n skoolhoof help om sy/haar skool, gemeenskap en land in dié opeenvolging van die onderskeie fases tot voordeel van die leerder te posisioneer. Die onderskeie fases sluit in:

  • ’n jagter-versamelaarfase
  • ’n landboufase
  • ’n fase van ekstraktiewe bedrywe (mynbou, vissery, bosbou)
  • ’n vervaardigingsbedryfsfase
  • ’n dienstefase (waarin dienste die grootste deel van die ekonomiese aktiwiteit uitmaak)
  • die huidige kennisekonomiefase, waarin die produksie en verbruik van nuwe kennis die aandrywer van ekonomiese ontwikkeling geword het.

Tabel 5. Die kennisontploffing

Opsies op die Likert-skaal

Frekwensie

Persentasie

Stem volmondig saam

18

36%

Stem saam

20

40%

Kan nie besluit nie

2

4%

Stem nie saam nie

6

12%

Stem glad nie saam nie

4

8%

Totaal

50

100%

 

Die data in tabel 5 toon aan dat die frekwensie van response van “stem volmondig saam” op 18 hoog was (36%), terwyl response van “stem saam” op 20 nog hoër was (40%). Die frekwensie van response van “kan nie besluit nie” was laag op 2 (4%), en daar was 6 response van “stem nie saam nie” (12%) en 4 van “stem glad nie saam nie” (8%). Dit beteken dat meer as ’n driekwart van die respondente (76%) hierdie faktor beskou het as ’n kontekstuele faktor wat ’n beduidende uitwerking op hulle professionele aktiwiteite het. Dié bevinding stem gevolglik ooreen met dié van voorstanders van die KHAT, soos Barnett en Sagor (2014) en Yamagata-Lynch (2014), wat die belangrikheid van die kennisontploffing uitdruklik beklemtoon as ’n kontekstuele faktor wat die oorweging van skoolhoofde verdien.

6.6 Desentralisasie en skoolgebaseerde bestuur vanuit die KHAT-lens

Desentralisasie en skoolgebaseerde bestuur is weer twee kontekstuele faktore wat twee kante van dieselfde muntstuk verteenwoordig. Desentralisasie kan kortliks beskryf word as die oordra of delegering van verantwoordelikhede vanaf nasionale of streeksvlak na die plaaslike vlak (in hierdie geval die skool). In die proses het die konsep van skoolgebaseerde bestuur tot gestalte gekom. In reaksie op die wydverspreide vraag na onderwyshervorming as gevolg van die groot ontevredenheid oor die sentralisasie van onderwysbestuur, het ’n beweging reeds meer as 20 jaar gelede op die onderwyshervormingstoneel begin om onderwysbestuur te desentraliseer, en dit kry steeds verder momentum (Fullan en Watson 1999; Caldwell 2005; World Bank 2007, 2015; Botha 2016).

Hoewel desentralisasie in die onderwys, algemeen gestel, op die afwenteling van besluitnemingsgesag van ’n hoër sentrale vlak na ’n laer plaaslike vlak betrekking het, het dit meer bepaald betrekking op die verskuiwing van besluitnemingsbevoegdheid van die staatsentiteit vir onderwys na die skoolvlak. Dit lei daartoe dat daar in die geheel gefokus word op die skool as die primêre eenheid vir onderwysverandering. Die beweging ter ondersteuning van desentralisasie word gemotiveer deur die oortuiging dat ’n skool kan verbeter indien diegene wat naby daaraan is, gesag het oor die aanwending van die hulpbronne wat vir die skool se verbetering bedoel is (Botha 2015, 2019).

As deel van hierdie neiging het talle lande desentralisasie beleide opgestel en verskillende strategieë gevolg om dit toe te pas. Een daarvan is skoolgebaseerde bestuur (“school-based management”) of plekgebaseerde bestuur, wat in Brittanje, Kanada, Australië en die VSA gewild is. Die belangrikste identifiserende eienskap van dié strategie wanneer dit op ’n skool in ’n omgewing van gedesentraliseerde skoolbestuur toegepas word, is die mate van selfbestuursgeleenthede wat sulke skole geniet (Botha 2016).

Desentralisasie van bestuursbeleide deur die toepassing van skoolgebaseerde bestuur het in ’n aantal lande tot onder meer die ontstaan van verskillende tipes skole gelei wat oor gesag in verskillende mates beskik. Dit sluit in “charter-skole” in die VSA (Vanourek 2005), stigting- of trustskole (“foundation skole”) in Brittanje (West en Pennell 2005) en “artikel 21-skole” in Suid-Afrika (Marishane 2003). Skoolgebaseerde bestuur en die herstrukturering van skole daarna maak begrip van onderwysleierskap noodsaaklik, aangesien dit vir hulle noodsaaklik is.

Skoolhoofde in Suid-Afrika is toenemend in die spervuur met betrekking tot die kontekstuele faktore van desentralisasie en skoolgebaseerde bestuur. Hulle behoort dus toenemend te verstaan wat hulle plek en rol is met betrekking tot hierdie faktore. Aan die hand van die KHAT staan die skoolleier (die objek) sentraal tot die kontekstuele faktore van desentralisasie en skoolgebaseerde bestuur (die objekte in hierdie geval) en dit is die skoolleier se taak om sy leierskapspraktyke dienooreenkomstig te rig. KHAT-aanhangers soos Halverson (2002), Dempster (2009) en Veresov (2010) identifiseer hierdie kontekstuele faktore as deel van die groter globale werklikheid en gevolglik kontekstuele faktore wat deeglik in ag geneem moet word deur enige skoolleier.

Tabel 6. Desentralisasie en skoolgebaseerde bestuur

Opsies op die Likert-skaal

Frekwensie

Persentasie

Stem volmondig saam

4

8%

Stem saam

6

12%

Kan nie besluit nie

3

6%

Stem nie saam nie

26

52%

Stem glad nie saam nie

11

22%

Totaal

50

100%

 

Die data in tabel 6 toon dat die frekwensie van response van “stem volmondig saam” op 4 baie laag was (8%), terwyl die response van “stem saam” effens hoër was op 6 (12%). Dit beteken dat slegs 20% van die respondente inderwaarheid hierdie faktor as hoegenaamd belangrik beskou het. Die frekwensie van response van “kan nie besluit nie” was laag op 3 (6%), maar meer as die helfte van die deelnemers (52%) het van die stelling verskil. Die kategorie “stem glad nie saam nie” het ’n verrassende 11 response (22%) gekry. Dit beteken dat bykans ’n driekwart van die respondente (74%) hierdie faktor nie as ’n belangrike kontekstuele faktor beskou wat ’n beduidende uitwerking op hulle professionele aktiwiteite het nie.

Hoewel ondersteuners van die KHAT soos Halverson (2002), Dempster (2009) en Veresov (2010) die belangrikheid van desentralisasie en skoolgebaseerde bestuur as eksterne faktore erken, het die deelnemers dit duidelik as ’n minder belangrike faktor beskou. Weer eens kan die respons moontlik toegeskryf word aan die feit dat respondente nie heeltemal seker was wat hierdie kontekstuele faktore behels nie en kan hierdie aspek as ’n beperking van die studie beskou word.

 

7. Gevolgtrekkinge en aanbevelings

Dit is belangrik dat skoolhoofde, as skoolleiers, ten alle tye ingelig is oor die kontekstuele toestande wat ’n uitwerking op die doeltreffendheid van hulle skole kan hê. Dit sal verseker dat skoolhoofde in alle gemeenskappe bewus raak van kontekstuele faktore wat hul onderskeie skole raak om hulle sodoende te bekragtig om tot groei, verandering en ontwikkeling in hulle onderskeie gemeenskappe by te dra. Suid-Afrikaanse skoolhoofde behoort dus nie net, soos hulle eweknieë in meer ontwikkelde dele van die wêreld, met ontwikkelinge in die wêreld tred hou nie, maar moet ook rekening hou van sowel die interne as die eksterne institusionele kontekstuele ontwikkelinge wat dalk uniek aan hulle bepaalde gemeenskappe en situasies is.

Dit blyk uit die ontleding van die data dat die deelnemers aan die studie modernisering, die maatskaplike konteks van die samelewing, en die kennisontploffing as belangrike kontekstuele faktore beskou wat ’n beduidende invloed op hulle professionele aktiwiteite het. Desentralisasie in die onderwys en skoolgebaseerde bestuur is glad nie as belangrike faktore beskou nie, en die meeste respondente was onseker oor die vraag of kontekstuele faktore soos demografie en wetenskap en tegnologie hoegenaamd ’n uitwerking op hulle professionele aktiwiteite het.

Suid-Afrikaanse skoolhoofde behoort byvoorbeeld kennis te neem van hoe kontekstuele faktore soos moderne wetenskaplike en tegnologiese ontwikkelings hulle pligte as leiers van skole in hulle gemeenskappe raak. Daar sal byvoorbeeld onder skoolhoofde bewustheid geskep moet word oor hoe die beskikbaarheid van inligtings- en kommunikasietegnologie nuwe geleenthede vir onderrig en leer in selfs die mees afgeleë landelike gebiede kan skep. Daar sal gekyk moet word na hoe verskynsels soos kuberafknouery skole begin raak wat voorheen nie toegang tot sulke tegnologie gehad het nie.

Skoolhoofde kan oorweeg om die strategie te volg wat in hierdie studie geskets is, te wete ’n ontleding van die kontekstuele toestande en uitdagings wat daarmee geassosieer word, volgens die riglyne wat die KHAT neerlê. Besinning oor ’n skoolhoof se aktiwiteitstelsel is belangrik ten einde die uitdagings op ’n eenvoudige maar realistiese wyse die hoof te kan bied. Dit impliseer onder meer dat die skoolhoof

  • as die objek sy/haar eie aktiwiteitstelsel in werking moet stel.
  • duidelikheid moet hê oor die subjekte (die probleme) van sy/haar taak en oor die verwagte uitkomste van die strategie wat gevolg word, aangesien dit eers gedoen kan word wanneer al die tersaaklike binne- en buiteskoolse kontekstuele toestande in ag geneem is.
  • die hele skoolgemeenskap in aanmerking moet neem wanneer hy/sy strategiese planne implementeer.
  • ook gepaste bemiddelende artefakte (tegnieke, stappe, maatreëls, kommunikasies, tegnologieë en vergaderings) moet gebruik om die skoolgemeenskap as geheel by die proses van verandering en ontwikkeling te betrek.
  • indien en wanneer nodig, ’n nuwe werk- en taakverdeling moet aanwend om die geïdentifiseerde doelwitte te bereik.
  • indien en wanneer nodig, die reëls van sy/haar skool in samewerking en oorleg met die skoolgemeenskap moet aanpas.

Suid-Afrikaanse skoolhoofde kan dus die KHAT met vrug gebruik om ’n strategiese plan op te stel wat ontwikkeling en verandering in hulle skole en gemeenskappe kan stimuleer en teweegbring. Skoolhoofde, as onderwysleiers, betree ’n onbekende toekoms, maar hulle moet desondanks duidelikheid hê oor die uitkoms wat hulle wil bereik. Insig in die kontekstuele faktore wat ’n uitwerking op hulle toekoms as skoolleiers het, kan ’n groot rol speel in hulle strategie om die uitdagings van die toekoms die hoof te bied.

 

Bibliografie

Asghar, M. 2013. Exploring formative assessment using cultural historical activity theory. Turkish Online Journal of Quantitative Inquiry, 4(2):18–32.

Azernert, L.V. 2014. Integrated public education, fertility and human capital. Education Economics, 22(2):166–80.

Barnett, B.G. en R. Sagor. 2014. The TQE principal: A transformational leader. Thousand Oaks, CA: Corwin Press.

Blunden, A. 2011. An interdisciplinary theory of activity. Chicago, IL: Haymarket Books.

Botha, R.J. 2014. Knowledge beliefs and problem-solving capabilities among South African school principals. Journal of Social Sciences, 38(3):247–53.

—. 2015. The principal as distributive leader: Supporting change and improving South African schools. Journal of Social Sciences, 43(6):207–15.

—. 2016. Inquiry-based learning: Improving South African schools. Journal of Sociology and Social Anthropology, 7(2):76–83.

—. 2018. Die ontwikkeling van nuut-aangestelde skoolhoofde en skoolverbetering in Gauteng provinsie. LitNet Akademies, 15(3):984–1004.

—. 2019. A study among newly appointed principals in South African schools. International Journal of Education, Economics and Development, 10(2):173–90.

Botha, R.J. en R.N. Marishane. 2011. School leadership in a changing context: A case for school-based management. Pretoria: Van Schaik.

Botha, R.J. en P.K. Triegaardt. 2015. The principal as distributed leader: Supporting change and improving South African schools. International Journal of Educational Sciences, 10(3):419–27.

Caldwell, B. 2005. Leading the self-managing school. Londen: Falmer Press.

Compion, J., H.J. Steyn, C.C. Wolhuter en J.L. van der Walt. 2012. Meeting challenges in rural African education: A Zambian case study. Acta Academica, 44(1):159–90.

De Beer, J. en E. Henning. 2011. Retreating to a Vygotskian stage where pre-service teachers play out social, ‘dramatical collisions’. Acta Academica, 43(3):203–28.

Dempster, N. 2009. What do we know about leadership? Londen: Routledge.

De Vos, A.S. en C.S.L. Delport. 2012. Research at grass roots. Pretoria: Van Schaik.

Engeström, Y. en A. Sannino. 2010. Studies of expansive learning: Foundations, findings and future challenges. Educational Research Review, 5(1):1–24.

Friedman, T.L. 2009. Hot, flat and crowded: Why the world needs a green revolution and how we can renew our global future. Londen: Penguin.

Fukuyama, F. 2014. State-building: Governance and world order in the 21st century. Londen: Profile Books.

Fullan, M. en N. Watson. 1999. School-based management: Reconceptualizing to improve learning outcomes. School Effectiveness and School Improvement, 11(4):453–73.

Gautengse Departement van Onderwys (GDO). 2019. School numbers and names in Gauteng province. http://www.gauteng_department_of_education/list_of_high_schools_in_Gauteng#Johannesburg (23 Januarie 2020 geraadpleeg).

Grubb, W.N. en J.J. Flessa. 2006. “A job too big for one”: Multiple principals and other non-traditional approaches to school leadership. Educational Administration Quarterly, 42(4):518–50.

Hallinger, P. en R.H. Heck. 2011. Conceptual and methodological issues in studying school leadership effects as a reciprocal process. School Effectiveness and School Improvement: An International Journal of Research, Policy and Practice, 22(2):149–73.

Halverson, C.A. 2002. Activity theory and distributed cognition: Or what does CSCW need to do with theories? Computer Supported Cooperative Work, 11(1):243–67.

Helmrich, B. 2015. Thirty ways to define leadership. http://www.businessnewsdaily.com/3647-leadership-definition.html (12 Junie 2019 geraadpleeg).

Inkeles, A. en D.H. Smith. 1974. Becoming modern: Individual changes in six developing countries. Cambridge, MA: Harvard University Press.

Kendall, D. 2007. Sociology in our times. Cambridge: Cambridge University Press.

Lampert-Shepel, E. 2008. Cultural-historical activity theory (CHAT) and case study design: A cross-cultural study of teachers’ reflective praxis. https://www.imf.org/external/pubs/ft/wp/2011/wp1131.pdf (11 April 2019 geraadpleeg).

McMillan, J.H. en S. Schumacher. 2010. Research in education: Evidence-based inquiry. 7de uitgawe. Boston, MA: Pearson.

Marishane, R.N. 2003. Decentralisation of financial control: An empowerment strategy for school-based management. DEd-proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria.

Neuman, W.L. 2014. Basics of social research: Qualitative and quantitative approaches. 3de uitgawe. Boston, MA: Pearson.

Naidoo, P. en N. Peterson. 2015. Towards a leadership programme for primary school principals as instructional leaders. South African Journal of Childhood Education, 5(3):12–20.

Oswald, M. en M. Perold. 2015. A teacher’s identity trajectory within a context of change. South African Journal of Education, 35(1):16–27.

Peet, R. en E. Hartwick. 2015. Theories of development: Contentions, arguments and alternatives. New York: Guilford Press.

Piggot-Irvine, E., J. Howse en V. Richard. 2013. South African principal and development needs. International Studies in Educational Administration, 41(3):1–18.

Postholm, M.B. 2015. Methodologies in cultural-historical activity theory: The example of school-based development. Educational Research, 57(1):43–58.

Rajbhandari, M.M.J. 2011. Hurdle towards education decentralization: An ontological paradigm of community participation in India and Nepal. PhD-proefskrif, University of Tampere.

Sanford, J.E. 2013. Developing countries: Definitions, concepts and comparisons. Oxford: Oxford University Press.

Stetsenko, A. en I.M. Arievitch. 2014. The self in cultural-historical activity theory. Theory and Psychology, 14(4):475–503.

Tan, E. 2014. Human capital theory: A holistic criticism. Review of Educational Research, 84(3):411–445.

Theron, J. 2013. General characteristics of the school as organisation. In Van der Westhuizen (red.) 2013.

United Nations. 2016. Rio declaration on environment and development. http://www.unesco.org/education/nfsunesco/pdf/RIO_E.PDF (23 Mei 2019 geraadpleeg).

Van der Westhuizen, P.C. (red.). 2013. Schools as organisations. Pretoria: Van Schaik.

Vanourek, G. 2005. State of the charter movement: Trends, issues and indicators. Washington, DC: Charter School Leadership Council.

Veresov, N. 2010. Introducing cultural-historical theory: Main concepts and principles of genetic research methodology. Cultural-Historical Psychology, 4(8):83–90.

West, A. en H. Pennell. 2005. Market-oriented reforms and “high stakes” testing: Incentives and consequences. Cahiers de la Recherche sur l’Éducation et les Savoirs, Hors-série, 1:181–99.

Wolhuter, C.C. 2011. The spectrum of international educational development. Journal of Educational Planning and Administration, 25(3):235–47.

World Bank. 2007. What is school-based management? Washington, DC: World Bank.

—. 2015. World development indicators 2015. Washington, DC: World Bank.

Yamagata-Lynch, L.C. 2014. Understanding and examining design activities with cultural historical activity theory. Design in Educational Technology: Design thinking, design process, and the design studio, 1:89–106.

Yew, F.L. 2013. Inner-city schools, multiculturalism and teacher education: A professional journey. New York: Routledge.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Enkele kontekstuele invloede op skoolhoofde: ’n Studie in Gautengse skole appeared first on LitNet.

Omnium expetendorum prima est sapientia: Hugo van Saint-Viktor (1097–1141) en die probleem van hiperspesialisasie in die eietydse wetenskapsbegrip

$
0
0

Omnium expetendorum prima est sapientia: Hugo van Saint-Viktor (1097–1141) en die probleem van hiperspesialisasie in die eietydse wetenskapsbegrip

Johann Beukes, Departement Filosofie, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 17(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Hierdie artikel ondersoek drie kernbegrippe in die filosofiese uitset van Hugo van Saint-Viktor (1097–1141), naamlik sapientia, trivium en quadrivium. Hierdie drie begrippe word binne die groter samehang van sowel Hugo se verwerking daarvan as die vroegskolastiek se spesialiseringstendense vertolk, met betrekking tot die implikasies daarvan vir ’n 21ste-eeuse gesprek rondom die intellektuele grondslae vir ’n opvoedkundige selfbegrip. Die probleem van hiperspesialisasie in die eietydse wetenskapsbegrip word vervolgens binne die raamwerk van hierdie opvoedkundige selfbegrip uiteengesit en krities bespreek, met verwysing na hiperspesialisasie as tempoverhewigde spesialisasie as die logiese konsekwensie van induktiewe spesialisering en as gemoeid met die prioritisering van die meganiese.

Trefwoorde: Didascalicon; hiperspesialisasie as die logiese gevolg van die skeiding van teologie en filosofie in die vroegskolastiek; hiperspesialisasie as tempoverhewigde spesialisasie; hiperspesialisasie as die logiese konsekwensie van induktiewe spesialisasie; hiperspesialisasie en die prioritisering van die meganiese dissiplines; Hugo se vierdelige herindeling van die liberale lettere; quadrivium; sapientia; trivium

 

Abstract

Omnium expetendorum prima est sapientia: Hugo of Saint-Victor (1097–1141) and the problem of hyperspecialisation in the contemporary concept of science

This article surveys three key concepts in the philosophical output of Hugo of Saint-Victor (1097–1141), namely sapientia, trivium and quadrivium. The three concepts are interpreted within the realm of both Hugo’s and early scholastic philosophical orientations, with the intention to indicate their relevant implications in a 21st-century framework of education. The problem of hyperspecialisation in contemporary science is critically interpreted within this historical framework, with reference to hyperspecialisation as tempo-intensified specialisation, as the logical consequence of inductive specialisation and as focused on the prioritisation of the mechanical.

After a short biographical introduction, opening with Hugo’s leading statement in Didascalicon , Omnium expetendorum prima est sapientia – “Of all things that should be sought after, wisdom is the first” – his conviction that “knowledge progresses swiftly, but wisdom slowly” is explored as a form of self-critical and self-interrupting wisdom teaching. This tentative understanding of “wisdom” is situated within the context of the early-scholastic (late 11th to early 13th century) distinction between theology and philosophy, as one of the first manifestations of the division, subdivision and specialisation of knowledge in the central Middle Ages. A thorough exposition of this distinction between theology and philosophy in the early 12th century is afforded, indicating how and when the unity discourse of philosophia as inherited from antiquity (Pythagoras and Seneca) and the early Middle Ages (Augustine and Boethius, with reference to the seven liberal arts, the trivium and quadrivium) was transformed at the time in order to clearly differentiate between theology and philosophy (without rigidly dividing them, which would happen only much later in the Middle Ages). It becomes clear from this exposition that Hugo’s self-interrupting and inclusive understanding of the concept sapientia came under pressure in his own time due to the dividing, specialising element in the formal distinction between theology and philosophy.

Hugo’s unique indexing of the seven liberal arts, in four categories, is henceforth analysed: (1) The theoretical arts, consisting of theology, physics and mathematics; (2) the practical arts, consisting of the “private and public disciplines” (for example, jurisprudence and education); (3) the mechanical arts, consisting of domains of material fabrication, construction and production (for instance weapon production and commerce [the Medieval prelude to the study of economics], interestingly including medicine as well); and (4) the logical arts, consisting only of grammar and rhetoric. Hugo’s attempt to recategorise the old trivium and quadrivium is described as the direct consequence of the pressure exerted by the young and upcoming universities of the early 12th century to position every faculty, subject and discipline within the broader scheme of divisions and subdivisions in Aristotelian natural philosophy: his unique four-part index was the first attempt from early scholasticism to deal with the phenomenon of progressive specialisation from those divisions. 

The increasing and seemingly endless subdivision of knowledge Hugo attempted to deal with, is nevertheless not the first characteristic of what in contemporary science is manifested as hyperspecialisation; the problem manifests itself first and foremost in the progressive tempo of these specialising divisions, which put it in direct opposition to Hugo’s central argument for “slow wisdom”. Where the faculty, subject and discipline were rather slowly divided in Hugo’s own time, these sped up exponentially through the later Middle Ages, through the phases of modernity and in contemporary science. Referring to this problem as “hyperspecialisation as tempo-induced specialisation” the article points out several problems arising from too early and too rapid specialisation, with too many specialists and too few masters of the subject, and too much technique and too little competency. The demarcation of “hyperspecialisation as tempo-induced specialisation” leads to a second problem because of hyperspecialisation in contemporary science, namely as the logical consequence of inductive specialisation. Specialist research domains are generally inaccessible outside of specialist abilities and interests and are seemingly content to deliver outputs for the sake of the specialist domains themselves, with the consequence that researchers within a particular domain communicate only with one another, and do not seem interested in whether the specialised domain or niche is actually impacting the broader discipline. As necessary and productive as balanced specialisation may well be, hyperspecialisation causes much internal stress in a particular subject, with too many people knowing everything about something (however unimportant) in a particular subject or discipline, and too few people knowing something about everything that is truly important in the same subject or discipline. Again, the notion of slowly developing “wisdom” in the Hugoian sense is impoverished. The third problem stemming from hyperspecialisation has to do with the prioritisation of the mechanical disciplines in contemporary science, where only the domains of knowledge that prioritise the mechanical and support instrumental rationality (and again not “wisdom”) are considered to be crucial, while those disciplines inherently critical of instrumental rationality are progressively deprioritised and soon regarded as obsolete. From these three manifestations of hyperspecialisation in contemporary science, the article concludes with a reconsideration of the extent of the loss of the wisdom ideal in the contemporary idea of the university, speculating about the possibilities of an alternative university for the 21st century. 

Keywords: Didascalicon; contemporary problem of hyperspecialisation as the logical consequence of the strict distinction between philosophy and theology in early scholasticism; hyperspecialisation as tempo-intensified specialisation; hyperspecialisation as the logical consequence of inductive specialisation; hyperspecialisation and the prioritisation of the mechanical disciplines; Hugo’s four-part presentation of the seven liberal arts; sapientia; trivium; quadrivium

 

Magister Hugo, besig om die Didascalicon te skryf. (Miniatuur in die manuskrip Leiden. ©Biblioteek Rijksuniversiteit, Vulcanius 45, folio 130r.)

 

1. Omnium expetendorum prima est sapientia

Hierdie artikel1 ondersoek drie kernbegrippe in die filosofiese uitset van Hugo van Saint-Viktor (1097–1141), naamlik sapientia, trivium en quadrivium. Hierdie begrippe word binne die groter samehang van sowel Hugo as die vroegskolastiek2 se filosofiese oriëntasies vertolk, met betrekking tot die implikasies daarvan vir ’n 21ste-eeuse gesprek rondom die intellektuele grondslae vir ’n opvoedkundige selfbegrip.3

Omnium expetendorum prima est sapientia – “Van alle dinge waarna gesoek behoort te word, is wysheid die eerste.” Met hierdie sleutelsin lei Hugo van Saint-Viktor4 (1961) sy meesterwerk Didascalicon,5 geskryf rondom 1128, in.6 Waarskynlik een van Champeaux7 (1070–1121) se laaste leerlinge, betree Hugo as jong teoloog (wel georden as priester onder die gewone kanon)8 die abdy te Saint-Viktor in Parys in die vroeë 1120’s. Hy maak vinnig opgang in die abdy se skool en word reeds voor 1128 as magister van die skool aangewys.

Vanuit die klooster te Saint-Viktor sou Hugo 46 werke die lig laat sien (opgeneem in Hugo 1854; hoewel sommige van die werke in die Migne-uitgawe se outentisiteit bevraagteken word).9 Onder hierdie werke tel sy twee mees beroemde uitsette: De Sacramentis christiane fidei en Didascalicon. Omdat Hugo geleef en gewerk het voordat die universiteitskolastiek werklik ’n impak op die intellektuele lewe van die 12de eeu begin maak het – en die Latynse Weste op hierdie stadium nog besig was om die wesenlike Aristoteles vanuit Arabiese na Latynse vertalings te herwin – was hy ’n talmende, versigtige denker, wat nog nie so grondig as sy mees beroemde leerling, Lombardus, in die skolastiek opgegaan het nie.

Hugo (1961:II:2) verstaan sapientia teen hierdie agtergrond as ten diepste “talmende selfonderbreking”: Hy onderbreek homself in Didascalicon deur voortdurend te vra na dít wat werklik geken kan word, watter dinge ter sake en selfs nodig is vir intellektuele spekulasie en watter dinge liefs, by gebrek aan die Griekse bronne (in sy geval), glad nie aangespreek behoort te word nie. Daarby benadruk Hugo (1961:II:5) in ’n stelling wat in die hoogskolastiek beroemd sou word, dat “kennis vinnig vorder, maar wysheid stadig groei”. Hierdie nadruk op ’n stadige en afgemete tempo ten opsigte van intellektuele ontwikkeling word daarin betuig dat Lombardus10 reeds in sy vroeë 40’s was toe hy uiteindelik deur Hugo as ’n postmagister in teologie onderrig is; dit is uitsonderlik laat, gegewe dat die magister in teologie op daardie stadium in elk geval nie toegeken kon word aan ’n student jonger as 35 jaar nie – ook al het die student aan al die vereistes voldoen en op daardie stadium reeds sowat 20 jaar voltydse studie in lettere en teologie afgehandel het.11

Dat hierdie sin vir stadige tempo en ’n selfonderbrekende wysheidsbenadering produktief was, word bevestig deur een van Hugo se mees waarderende latere lesers, Bonaventura (1217–1274), wat in sy De reductione artium ad theologiam (1882:32/1b) aandui dat Hugo tel onder die mees gerekende denkers in sy (Bonaventura se) befaamde rubrisering van teologie, naamlik dogmatiek, etiek en mistiek. Bonaventura plaas Hugo daar lángs Augustinus, Gregorius, Pseudo-Dionisius, Anselmus en Bernardus, met die nota dat Hugo “dit alles kon beheer” – bedoelende dat Hugo, in terme van sy nadruk op die afgemete, stadige ontwikkeling van ’n moontlike filosoof-teoloog, sélf uiteindelik die volle register van sowel filosofie as teologie betekenisvol en genuanseerd in die vroegskolastiese omgewing kon hanteer. Dit is ’n werklik positiewe getuigskrif – wat raar in die buitengewoon kompeterende Middeleeuse skolastiek was, juis in die oorgang van vroegskolastiek na hoogskolastiek, waarvan Bonaventura deel uitgemaak het.

 

2. Die onderskeid tussen teologie en filosofie in die vroegskolastiek

Hugo se selfonderbrekende wysheidsopvatting moet egter uitdruklik binne die vroegskolastiese aandrang op die onderskeiding van teologie en filosofie verstaan word. Hugo werk binne ’n konteks waar die onversteurde, insluitende begrip sapientia (die term is in die vroeë Middeleeue uitruilbaar met die term philosophia gebruik), deur ’n eerste aandrang op spesialisering in die Middeleeue, geproblematiseer is: Hierdie vroeë vorm van spesialisasie koppel naamlik terug na die vroegskolastiese aandrang (vanaf Abelardus [1079–1142] in die besonder) op die verselfstandiging van filosofie, synde onafhanklik van teologie. Dit is trouens die uitstaande kenmerk van die vroegskolastiese periode dat filosofie, vir die eerste maal in die Middeleeuse ideëgeskiedenis, formeel van teologie onderskei wou word. Hierdie vroeë verskynsel van “spesialisasie” sou die Latyns-Westerse filosofiese tradisie opvolgend grondig beïnvloed.

Daar was in die voorafgaande periodes van Middeleeuse filosofie (post-Romeins, Karolingies en post-Karolingies) geen onderskeid getref tussen teologie en filosofie nie; beide het eenvoudig tot die insluitende domein van “geleerdheid”, “kennis” en “wysheid” behoort, wat onproblematies philosophia genoem is. Teologie is feitlik strykdeur onder die eerste drie liberale lettere van die trivium gerubriseer, en ook nog hier by Hugo word teologie, saam met die ander lettere, onder die sambreelterm philosophia gelys. Anders as die ongelykmatige12 hantering van die term teologie in die vroeë Middeleeue, is die term filosofie of philosophia in die filosofiegeskiedenis insluitend en gelykmatig hanteer, reeds vanaf Pythagoras, en net so ook binne die Latyns-Christelike Weste van die Middeleeue. Pythagoras wou hom op beroemde wyse nie blootstel aan die moontlike pretensies opgesluit in die begrip wysheid nie en het homself beskeie eerder as ’n “student van wysheid”, of meer direk vertaal, ’n “liefhebber van wysheid”, aangebied. In die Romeinse wêreld het Cicero beroemd na filosofie as die “moeder van die lettere” verwys. Seneca was meer tegnies daaroor en het filosofie volgens die Stoïsyns-Platoniese model in rasionele filosofie (logika), natuurlike filosofie (fisika) en morele filosofie (etiek) ingedeel.

’n Alternatiewe indeling van die filosofiese deeldissiplines was natuurlik dié van Aristoteles, wat deur Boethius (ca. 477–524) vierdelig gedistilleer is as logika, teoretiese filosofie (fisika, wiskunde en teologie – laasgenoemde ’n term wat Boethius self vermy het deur eerder na “eerste filosofie” te verwys), praktiese filosofie (etiek, politiek en ekonomie) en poëtiese filosofie. Sowel die Stoïsyns-Platoniese as die Aristoteliese model was onderverdelings van filosofie in ’n streng en tegniese sin van die woord. Die Karolingiese kloosterorganiseerder Alcuin (730–804) sou hierdie tegniese verdelings gevierd in die sewe liberale lettere, bestaande uit die drie klassieke lettere, die trivium (logika, grammatika en retoriek) en die vier praktiese lettere, die quadrivium (meetkunde, wiskunde, musiek en astronomie) kategoriseer, wat vir eeue daarna nog die standaardkurrikulum vir geleerdheid aan die Karolingiese howe, kloosterskole en katedraalskole, asook die Middeleeuse universiteite vanaf die begin van die 11de eeu, sou vorm.

Dit is presies wat “filosofie” vir die Middeleeuse denkers tot hier by Hugo in die 12de eeu was: geleerdheid in die mees omvattende en insluitende sin van die woord, wat in bogenoemde drie teoretiese lettere en vier praktiese lettere tot uitdrukking gebring is.13 Anders as in die patristiek, het geen noemenswaardige denker tydens die Middeleeue, in welke periode ook al, “filosofie”, synde sowel teorie as praxis, uit die Bybelse tekste as sodanig afgewys nie. Eerder die teenoorgestelde: Vele studente van die filosofie is juis op grond van filosofiese oorwegings tot die Christendom bekeer en het filosofie daarna juis selfs meer intens beoefen in die voortgaande soeke na die waarheid en geregtigheid van God. Van hulle was Augustinus (354–430) moontlik die beroemdste voorbeeld. In Confessiones prys hy byvoorbeeld Cicero se Hortensius aan as die “instrument van God” wat hom verby die materialistiese slaggat van Manicheïsme14 gelei het. Hoewel Augustinus in De doctrina Christiana wel tot versigtigheid maan wanneer heidense bronne oopgedek word, is een van die hoofoogmerke van die werk juis om te argumenteer dat filosofie, in die niegereguleerde sin van “geleerdheid”, wat die sewe liberale lettere insluit, ’n onontbeerlike sleutel tot die verstaan of oopmaak van die Bybelse tekste is. Hy stel selfs voor dat sy Christelike lesers filosofie in die meer tegniese sin sal bestudeer en “die Platoniste sal lees”. In hierdie soort aanmoediging vind Augustinus wel by sommige ouer Oosterse en Westerse kerkvadere aansluiting, waar “die filosofie van die wêreld”, “akademiese filosofie”, “pagaanse filosofie” (of “die filosofie van die heidene”), en “wêreldse filosofie” gekontrasteer word met “ons filosofie”, “Christelike filosofie” en “ware en heilige filosofie”, waar die verskil tussen die pagaanse en Christelike lewenshouding en waarheidsbeskouing beskryf word deur selfs die Christelike geloof as sodanig “filosofie” te noem. Isidorus (ca. 560–636) se Etymologiae het hierdie Augustiniaanse kontrastering gesistematiseer en na bovermelde Alcuin toe laat deurwerk wat dit in daardie standhoudende trivium en quadrivium ingedeel het.

Filosofie is in die Middeleeue enersyds tegnies verstaan, met verwysing na die bronne van die trivium en quadrivium, en andersyds as die inhoud van ’n niegereguleerde vorm van “geleerdheid”, wat ’n hermeneutiese, apologetiese en kategetiese voordeel vir die vroeg-Middeleeuse denkers vanuit die Latynse Weste ingehou het. Hierdie verstaan van filosofie, met inbegrip van die toenemende aandrang op die verselfstandiging van filosofie vanaf Abelardus, is in die opkomende universiteite15 van die 12de eeu se studieprogramme steeds geïnkorporeer as ’n onontbeerlike deel van die baccalaureus, in enige van die studierigtings, hetsy by lettere, teologie, regsgeleerdheid, geneeskunde of opvoedkunde. By verre die meerderheid magisteruniversiteite het trouens ’n baccalaureus in lettere as voorwaarde vir toelating tot en spesialisering by die ander fakulteite gestel, wat beteken het dat nie net filosowe (bedoelende studente wat die magistergraad in lettere behaal het) filosofies geskool was nie, maar dat elke gegradueerde magister, hetsy as regsgeleerde, teoloog, geneeskundige of onderwyser, filosofies grondig onderlê was, in besonder met verwysing na die trivium. By lettere self is die kurrikulum in die 12de eeu stelselmatig uitgebrei om die stroom Aristoteles-vertalings vanuit Arabies na Latyn wat in hierdie tyd beskikbaar geraak het, te inkorporeer. Die ou logika, of logica vetus (Porphyreus se Isagoge, asook Aristoteles se Categoriae en De Interpretatione, met Boethius se veelvuldige kommentaar), is steeds gedoseer, met die nuwe logika, of logica novus (logika met ’n ontologiese dimensie, gebaseer op die 12de-eeuse Latynse vertalings van Aristoteles se Analytica Priora, Analytica Posteriora, Topica en De Sophisticis Elenchis), wat nou die kern van die kurrikulum in logika gevorm het.16

“Spesialisasie” begin dus in die vroegskolastiek met bovermelde formele onderskeid tussen teologie en filosofie. Die vroegskolastiek sou, in samehang met die grootlikse verskuiwing van filosofiese arbeid vanaf die kloosters en katedraalskole na die opkomende universiteite van die laat 11de eeu, die bepalende kenmerk van Middeleeuse filosofie tot aan die einde van die 15de eeu, met die aanbreek van die Italiaanse Renaissance in Suid-Europa en die Christelik-humanistiese beweging in Noord-Europa, wees. Middeleeuse filosowe sou vanaf die vroeg-12de eeu toenemend binne die universiteitswese aan hulle filosofiese arbeid in terme van “professionaliteit” en “loopbane” dink, eerder as “diens deur kennis” en veral “diens aan teologie”. Waar Middeleeuse filosowe tot op hierdie stadium “gedien” het, hetsy vanuit die keiserlike paleisskole in die Karolingiese periode of vanuit die kloosters en katedraalskole in die post-Karolingiese periode, het hulle nou ’n “beroep” beoefen. Die skolastikus het aan homself as ’n professionele eksegeet van die oorgelewerde tekste gedink – en hoewel by verre die meeste filosowe steeds aan die een of ander monnike-orde verbonde was, was dit nie die orde nie, maar die universiteit wat die inhoud van hulle arbeid (in terme van kurrikulum) en die omvang van hulle uitset (in terme van doseerwerk en publikasies) bepaal het. 

Dit is hiermee duidelik dat Hugo se selfonderbrekende en insluitende verstaan van die begrip sapientia reeds in sy eie tyd vanweë spesialisasie in die formele onderskeiding van filosofie en teologie onder druk gekom het. Die vraag is of sy oorspronklike verstaan van sapientia, synde selfonderbreking en ’n insluitende benadering tot die dissiplinering van kennis, nie opnuut eietyds oorweeg kan word binne die konteks van die logiese gevolge van die 12de-eeuse onderskeid tussen teologie en filosofie nie, naamlik die verskynsel van hiperspesialisasie in die eietydse wetenskapsbegrip.

 

3. Die unieke, vierdelige Hugoïaanse indeling van die trivium en quadrivium (TPML)

Naas die problematisering van die selfonderbrekende en insluitende begrip sapientia in die 12de eeu op grond van die formele skeiding van filosofie en teologie, moes Hugo ook in die reine kom met ’n trivium en quadrivium wat onder druk gekom het in terme van die opkomende universiteite se rubrisering en inhoude van die ou sewe liberale lettere in “vakke” en “fakulteite”. In die Karolingiese paleisskool te Aachen en in die kloosterskole en katedraalskole van die post-Karolingiese periode was die trivium en quadrivium nooit onder druk nie; die sewe liberale lettere is onproblematies en onveranderd gehandhaaf. Vir bykans vyf eeue het die trivium en quadrivium die inhoude van die begrippe wysheid, opvoeding en vorming getrou gedien.

Die trivium (grammatika, logika en retoriek) het reeds sedert Boethius wesenlik een oogmerk gehad, naamlik die skep van ’n samehangende selfbegrip en ’n koherente selfaanbod binne ’n niesamehangende wêreld. Die trivium het ’n mens dus geleer om te “verstaan” en jouself “verstaanbaar” in ’n “onverstaanbare wêreld” te maak. Die trivium was duidelik partikulariserend in oriëntasie (wat beteken dat dit die ontwikkeling, vorming en opvoeding van die individu gedien het). Die trivium se voorkeurtaal was die volkstaal, dit wil sê die opvoedingstaal en algemene gebruikstaal van die betrokke individu. Hoewel sodanige “volkstaal” vir die sowat eerste derde van die Middeleeuse kultuurgeskiedenis Latyn was, het die linguistiese ontwikkeling van onder meer Engels, Frans, Spaans, Duits, Nederlands en die Skandinawiese tale vanaf minstens die negende eeu (deur talle sosiolinguistiese en altyd-onafgehandelde fases heen) die noodsaak aan die erkenning van die verskeidenheid van linguistiese moontlikhede in die opvoeding per trivium beklemtoon. Eenvoudiger gestel: Die bedoeling reeds van Boethius en Alcuin af was dat die trivium in die eie taal sou dien. Hugo (1961:II:4) merk byvoorbeeld op dat dit opvoedkundig uiters problematies is om iemand ’n derde taal vanaf die grammatikale en logiese basis van ’n tweede taal te leer.

Die quadrivium (meetkunde, wiskunde, astronomie en musiek) weer, het die wesenlike oogmerk van kwantifisering gehad: Elke afdeling van die lettere binne die quadrivium was gemoeid met syfers. Daarom was die enigste “verstaan” vanuit die quadrivium die “verstaan van hoeveelheid”. Daarom kon die quadrivium goedskiks in enige taal dien: Die taal van die quadrivium was immers die Arabiese syfer – ook al kon die betrokke taalgebruiker van die quadrivium geen woord Arabies praat nie. Daarom was die quadrivium universaliserend in oriëntasie: Enige uitset per quadrivium het universeel deur simbole gegeld – wat ons vandag eenvoudig “binêre kode” sou noem – en het niks te doen met die sintaktiese, semantiese en semiotiese potensiaal én probleme binne enige volkstaal nie. Waar die trivium elke moontlike vraag vanuit die Aristoteliese kategorieë vooronderstel (utrum – “of” [bv. of dit gaan gebeur, weet ek nie]; quid – “wat”, de quo – “waarvan”; quare – “waarom”; quale – “soos”, quando – “wanneer”; ubi – “waar”; en quo modo – “op watter wyse”), maar met die uitsondering van quantum – “hoeveel”, vra die quadrivium juis slégs na quantum – “hoeveel”. Hierdie onderskeid tussen die oogmerke, oriëntasies en linguistiese voorwaardes (al dan nie) van die trivium en quadrivium is wesenlik tot die verstaan van Hugo se unieke verwerking daarvan – en die probleem van hiperspesialisasie in die eietydse wetenskapsbegrip.

Een van die grondigste eienskappe van die opkomende jong universiteite van die 12de eeu te Bologna en Parys in die besonder was die eis om ’n konstante vakterminologiese verantwoording binne die nuutgespesialiseerde kontekste van “vakke” en “fakulteite”. Hugo se eerste selfopgelegde taakstelling was daarom, eie aan hierdie dwingende eis om vakverantwoording in die 12de eeu, om ’n eie wetenskapsbegrip te ontwikkel en te verantwoord. In hierdie opsig lewer Hugo ’n unieke en onderskeidende bydrae wanneer hy by die gevestigde inhoude van die trivium en quadrivium verbygaan en ’n eenvoudiger skema postuleer waarin die lettere vierdelig (teenoor die sewedeligheid van die trivium en quadrivium) onderskei word in die (1) teoretiese, (2) praktiese, (3) meganiese en (4) logiese lettere (afgekort as TPML) (Hugo 1961:II). Dit is uit die meer onlangse Hugo-navorsing (vergelyk veral Gorman 2006:320–5; Illich 1993:1–28; Monagle 2013:441–56 en Rosemann 2004:21–8, 56–8) duidelik dat Hugo hierin nie volledig oorspronklik was nie, in die sin dat hy volledig toegang tot sy Spaanse voorganger Avempace (Ibn Bajja, d. AH533 / 1139)17 se wél oorspronklike, uitgebreide tegniese dissipline-ordening gehad het en die Andalusiër in hierdie verband grootliks nagevolg het.

TPML sien soos volg daaruit: Die (1) T (teoretiese lettere) bestryk na Hugo se indeling teologie, fisika en wiskunde; die (2) P (praktiese lettere) bestaan uit wat Hugo die “private en openbare dissiplines” (onder meer regsgeleerdheid en opvoedkunde) noem; die (3) M (meganiese lettere) bestaan uit materiaalvervaardiging, konstruksie en produksie (bv. wapenproduksie en ook handel – reeds toe goed op pad om ’n selfstandige vakgebied met die later-moderne naam “ekonomie” te word), terwyl Hugo ook die toenemend tegniese – reeds so in die 12de eeu – dissipline van geneeskunde hierby insluit); die (4) L (logiese lettere) word slegs uit grammatika en retoriek saamgestel.

TPML is, gemeet aan die inhoude van die trivium en quadrivium, ’n unieke wetenskapsteoretiese verantwoording wat gedeeltelik ook met Adelardus van Bath (ca. 1080 – ca. 1152) se tegniese rubrisering ooreenstem. Ons dissemineer vervolgens hierdie Hugoïaanse TPML-indeling teen die agtergrond van die inhoude van die trivium en quadrivium.

Eerstens, afgesien van ’n hertoewysing van fisika en wiskunde vanuit die quadrivium aan T, word teologie uit die trivium (as per onversteurde sapientia of philosophia deel van grammatika en retoriek) gehaal en uitdruklik by T ingesluit. Hugo se bedoeling is duidelik: Teologie is soveel ’n wetenskap met objektiewe grondslae en beoogde objektiewe uitsette as wat fisika en wiskunde dit is. Teologie is streng gesproke wetenskap, en veral selfstandige wetenskap.

Tweedens skep Hugo in die afwesigheid daarvan in die trivium en quadrivium (synde nogeens destyds spontaan deel te gewees het van ’n onversteurde sapientia) vir die twee nuwe fakulteite regsgeleerdheid en opvoedkunde plek in P. Ook hier is die bedoeling duidelik: Synde nou gehuisves binne bepaalde fakulteite binne die universiteit, moet die twee dissiplines (wat dus vroeër onspesifiek tot die trivium per grammatika en logika behoort het) van ’n duidelik omlynde akademiese ruimte voorsien word wat as sodanig gerespekteer behoort te word. Hiermee is dit duidelik dat Hugo in hierdie sin wel konformeer aan die vroegskolastiese druk om “vakke” en “fakulteite” akademies te respekteer, veral in terme van die vermyding van oorkruisinge tussen vakke en fakulteite.

Derdens maak Hugo (vir die eerste keer in die Latynse Weste) in M uitdruklik voorsiening vir die dissiplines wat met instrumente werk: Dit is “ingenieurswese”, bestaande uit die meganiese of tegniese dissiplines, wat nie spekulatief werk nie, maar met die oog op kwantifisering, vervaardiging, konstruksie en produksie. M gaan hoogstens terug na wiskunde, meetkunde en musiek in die quadrivium, maar die inhoud word nou duidelik as vakke binne ’n fakulteit aangedui. “Ingenieurswese” (soos dit in die moderne wetenskap bekend sou staan), so genoem na Avempace se benaming daarvan as die “studie van instrumente”, is gerig op die konkretisering of totstandbringing van die dinge wat teoreties in wiskunde bewysbaar is, waar die instrument gebruik word om die bewysbaarheid daarvan tot stand te bring, maar wat in die afwesigheid van die instrument nie tot stand gebring sou kon word nie. Die instrumente van M sluit onder meer geometriese instrumente (byvoorbeeld ’n sonhorlosie), astronomiese instrumente (byvoorbeeld ’n teleskoop), optiese instrumente (byvoorbeeld spieëls), musiekinstrumente (byvoorbeeld blaasinstrumente) en meganiese instrumente (byvoorbeeld ’n waterpas) in. In terme van die onafwendbaarheid van Aristoteliese verdelings en spesialisasie in die 12de eeu word dit wat voorheen “tegnies” was, nou “wetenskap”. Dit sou natuurlik nie lank neem vir M om verder onderverdeel te word in algaande meer tegniese deeldissiplines nie; selfs “ingenieurswese” sou betreklik vinnig onderverdeel moes word in (wat ons vandag sou noem) siviele ingenieurswese en bourekeningkunde. Verder word ook “handel” (daarby ingesluit al die vakke, dissiplines en deeldissiplines wat vandag by die fakulteit[e] ekonomiese en bestuurswetenskappe ingesluit word), van ’n spesifieke plek voorsien, binne die konteks van die hoogbloei van feodalisme en die toenemend problematiese vraag na die verhouding tussen publieke en private eiendomsreg (die uitstaande skolastiese strydvraag in die eerste helfte van die 14de eeu). Belangrik is dat Hugo M aan die kwantifiserende oogmerk en universaliserende oriëntasie van die quadrivium koppel, met die bedoeling dat enige vak of dissipline binne hierdie fakulteit(e), in enige taal aangeleer en beoefen kan word.

Vierdens beperk Hugo L tot slegs grammatika en retoriek, met die versweë uitgangspunt dat logika per trivium slegs binne die grammatikale en retoriese konteks van die vernakulêr aangeleer kan word. Daarom noem hy dit inderdaad die “logiese lettere”. 

Geeneen van die sewe liberale lettere in die ou trivium en quadrivium bly met TPML in die slag nie: dié wat Hugo nie spesifiek aan ’n lettere toedeel nie, kan óf met verantwoording binne enige van die vier Hugoïaanse lettere geplaas word (waarmee Hugo ’n soepelheid ten opsigte van TPML wil demonstreer) óf by duidelike implikasie in enige van die vier lettere teregkom: Grammatika, logika en retoriek hoort by L, terwyl meetkunde en wiskunde by T hoort (saam met fisika en teologie), maar musiek (synde sowel syferkombinasies as ’n tegniese vermoë en uitset) by enige van T of M kan hoort. Hugo hou die TPML-deur juis oop sodat toekomstige fakulteite en vakke vanuit die nimmereindigende proses van Aristoteliese verdelings, onderverdelings en voortgaande spesialisasie, iewers in TPML ’n geïndekseerde plek kan kry.

Laastens – en dit is uiteindelik die mees wesenlike aan Hugo se unieke, vierdelige indeling van die trivium en quadrivium: Hy dring daarop aan om na die vier TPML-lettere steeds en uitdruklik as philosophia te verwys, met ander woorde, dat hierdie vier lettere steeds ’n vorm van juis filosofie is. Dit dui daarop dat Hugo se opvatting van filosofie steeds buitengewoon insluitend was vir die tyd, met die duidelike implikasie dat hy daarmee onproblematies wil volstaan om teologie18 steeds as “filosofie” te handhaaf, soos ook elkeen van die vakke binne die vier Hugoïaanse lettere. Op hierdie Hugoïaanse wyse triomfeer sapientia en philosophia steeds onder druk van 12de-eeuse vakspesialisasie: Soveel as wat elkeen van die lettere en vakke binne ’n fakulteit eerbiedig behoort te word, net soveel bly dit alles deel van een strewe na sapientia. Soveel as wat geleerdheid geadministreer (na die vroegskolastiese eis) moet word, soveel behoort dit selfonderbrekende wysheid te bly.

Die Hugoïaanse indeling van die trivium en quadrivium was dus die direkte gevolg van die druk vanuit die opkomende universiteitswese om elke fakulteit en vak in terme van die interne onderverdelings binne elke fakulteit en vak, binne die groter skema van verdelings en onderverdelings in Aristoteliese natuurlike filosofie, te plaas en te verantwoord. Hugo se unieke indeling was die eerste sodanige reaksie vanuit die vroegskolastiek om die verskynsel van spesialisasie vanuit hierdie verdelings onder beheer te probeer bring. Van daar af sou die dinamika van hierdie eindelose verdelings en onderverdelings momentum kry en sou spesialisasie en die interne skeidinge binne sapientia en philosophia een van die mees fundamentele kenmerke van die latere hoog- en postskolastiese periodes word. Die proses duur vandag nog voort, met nou nie meer spesialisasie nie, maar “hiperspesialisasie” grondliggend aan die eietydse wetenskapsbegrip. Die intensivering van spesialisasie plaas enige eietydse poging om die inhoude van die begrippe wysheid, opvoeding en vorming te verwoord, onder toenemende druk. 

Hugo was binne die eie kring invloedryk: Afgesien van die invloed op sy nagraadse student Lombardus, met inbegrip van Lombardus se eie diepgaande invloed op die skolastiek en sentraal-Middeleeuse teologiebeoefening, het hy ook Richard van Saint-Viktor (d. 1173)19 grondig beïnvloed. Met betrekking tot die invloed op ook sy ander leerlinge te Saint-Viktor leef Hugo effektief tot diep die Middeleeue in. Sy direkte invloed, in terme van sy skool te Saint-Viktor se akademiese uitset, het egter na die 13de eeu begin taan. Hy sou wel ’n konstante tekstuele gespreksgenoot van belangrike 13de-eeuse en vroeg-14de-eeuse denkers, onder meer Bonaventura en Aquinas, bly. Hugo se talmende, versigtige en selfonderbrekende manier van skolastiekbeoefening is in sy eie tyd waardeer en behoort tot vandag toe nog waardering op te roep. Sy toepassing van die patristiese oorlewering, gegewe die skaars toegang wat hy self tot die Griekse filosowe gehad het, is ook ’n voorbeeld van wat vermag kan word wanneer iemand meer geïnteresseerd is in ’n hervertolking van oorgelewerde kennis as in om ten alle koste “oorspronklik” te wil wees. Dat veral Abelardus dit nooit kon insien nie, bly ’n tragiese voetnota in die filosofies-teologiese nalatenskap van die 12de eeu. Dit is egter ook die insgelyks tragiese voorwoord tot die grammatologies-de(kon)struktiewe windspel van filosofie in die laat 20ste en vroeë 21ste eeue.

 

4. Sapientia en die probleem van hiperspesialisasie in die eietydse wetenskapsbegrip

Sou wysheid nog so Hugoïaans verstaan kon word? Sou “selfonderbreking” en “stadige tempo” nog die uitstaande kenmerke van ’n wysheidsbegrip kon wees? Sou die voortdurende eietydse aandrang op “oorspronklikheid” (met ’n gepaardgaande verwaarlosing van die vergete en verwaarlooste momente in die ideëgeskiedenis) teengegaan kan word met niks meer nie as ’n aktualiserende (en in daardie opsig wel ’n “oorspronklike”) herlesing van die oorspronklike? Sou Eco (1997:5) dit toegegee kon word wanneer hy polemies skryf: 

It would hardly be a waste of time if sometimes even the most advanced students in the cognitive sciences were to pay a visit to their ancestors. It is frequently claimed in philosophy departments that, in order to be a philosopher, it is not necessary to revisit the history of philosophy. It is like the claim that one can become a painter without having ever seen a single work by Raphael, or a writer without having ever read the classics. Such things are theoretically possible; but the “primitive” artist, condemned to an ignorance of the past, is always recognizable as such and rightly labelled as naïf. It is only when we consider past projects revealed as utopian or as failures that we are apprised of the dangers and possibilities for failure for our allegedly new projects. The study of the deeds of our ancestors is thus more than an antiquarian pastime, it is an immunological precaution.

Hierdie oproep tot die herkenning van ’n “immunologiese voorsorgmaatreël” word beklemtoon in die onderstaande kritiek van hiperspesialisasie, as ’n tergende probleem in die eietydse wetenskapsbegrip, teen die agtergrond van die bostaande ontleding en byeenbring van aspekte van Hugo – ’n geliefde ancestor – se wysheidsleer. 

Daar is ongetwyfeld steeds die moontlikheid van ’n sodanig “selfonderbrekende wysheidsbegrip”. Trouens, sedert Nietzsche in die laat 19de eeu, tematies opgevolg deur talle eksponente van 20ste-eeuse moderniteitskritiek, is daar talle voorbeelde van sodanige “talmende selfonderbrekings”: in Michel Foucault se aweregse, historiografiese magsontledings en Theodor W. Adorno se negatiewe dialektiek byvoorbeeld. Die vraag is egter of die universiteit, as die voorkeurruimte van eietydse geadministreerde geleerdheid, steeds in die 21ste eeu die mees geskikte ruimte is om hierdie beskeie wysheidsbegrip tegelyk te assimileer en te demonstreer.

Universiteitsgebonde akademici het vandag selde nog tyd om tot “wysheid” te veredel of selfs net ter wille van ’n voorlopige selfaanbod “geleerd” te wees; eerder is hulle daartoe verbind om nisuitsette so vinnig en soveel as moontlik op ’n akademiese produksieband te lewer. In stede van ’n kontemplatiewe lewe waarin werklik tot die hoogtes en dieptes van die vak, maar juis ook jenseits die onmiddellike belange en fokuspunte van die vak gevorder kan word, word hulle lewens in beslag geneem deur eindelose burokratiese verpligtinge en administratiewe rompslomp. Uiteindelik is dit die vak, maar ook weer “wysheid” en “kennis”, wat deur die administrasie van spesialisasie ondermyn word.

Dit is nou reeds heeltemal duidelik wat hier met “spesialisasie” bedoel word: Sedert reeds die 12de eeu beteken dit die eindelose Aristoteliese verdelings en onderverdelings van kennis binne ’n bepaalde fakulteit, dan ’n vak, dan ’n dissipline, dan deeldissiplines, dan nisnavorsing vanuit die deeldissiplines, dan nisse vanuit die nisnavorsing self, gevolg deur subnisse vanuit die nisse. Die spesialisasie-aandrang vanaf die 12de eeu is in die 21ste eeu egter tot ’n hoogtepunt gebring, in wat “hiperspesialisasie” genoem kan word. 

Hiperspesialisasie het na my aanbod van hierdie andersins glibberige begrip drie inhoude: (1) die tempo van spesialisasie; (2) die groterwordende afstand tussen nisnavorsing en die vak self; en (3) die tegnisering en meganisering van kennis tot instrumentele vaardigheid en vaardigheidsontwikkeling, wat slegs nog onder Hugo se M tuisgebring kan word, terwyl sy T, P en L daardeur ernstig skade aangedoen word.

Die eindelose onderverdelings van kennis is egter nie die eerste tree in die omlyning van die probleem nie. Die probleem vestig eerstens juis in die tempo waarteen dit plaasvind, met inbegrip van Hugo se aandrang op ’n stadige en afgemete tempo in die aanbod van ’n talmende wysheidsbegrip. Waar die fakulteit, vak en dissipline in die vroegskolastiek betreklik stadig onderverdeel is, het hierdie onderverdeling deur die latere Middeleeue en in die moderne periodes eksponensieel versnel.

4.1 Hiperspesialisasie as tempoverhewigde spesialisasie

Die spoed waarteen vakke, dissiplines en nisse tans onderverdeel word, veral as gevolg van die toenemende digitalisering van kennis, is verbysterend. Dit is trouens ’n wonder dat universiteitsadministrasies nog hoegenaamd byhou. Hierdie tempoverhewiging in spesialisasie kan aan een faktor in die besonder toegeskryf word: te vroeë en te vinnige spesialisasie, met gevolglik te veel spesialiste en te min vakkenners; te veel tegniek en te min behendigheid. In die Suid-Afrikaanse openbare onderwysstelsel kies skoliere al vir dekades reeds op die ouderdom van ongeveer 15 waarin hulle wil “spesialiseer” – en kan hulle hulleself dan net met moeite uit daardie jong, onvolwasse besluit loswikkel. Op universiteit het hulle net drie jaar om daardie spesialisasiekeuse in ’n “beroep” te ontwikkel, wat op die ouderdom van 21 dadelik in verdere, nagraadse spesialisasie opgaan. Weinig baccalaureuskwalifikasies beteken in Suid-Afrika nog enigiets noemenswaardig indien dit nie dadelik met minstens ’n honneurs- en meestersgraad opgevolg word nie (bv. kliniese sielkunde, medies [in effek ’n meestersgraad], verpleegkunde, kommunikasiekunde, rekeningkunde, teologie, ekonomie, ondernemingsbestuur, chemie, fisika, toegepaste wiskunde, astrofisika en so meer). Teen die ouderdom van 24 is hierdie nagraads-gekwalifiseerde student veronderstel om “gereed” te wees om die “arbeidsmark” te betree.

Behoort ’n student nie eerder deur ’n onderwysstelsel en opvoedingskultuur in staat gestel te word om eers “geleerd” en “behendig” te word as om so vroeg vakrelatief “vertegniseer” te word nie? Sou Stanford Universiteit se voorgraadse program nie as voorbeeld kan dien nie, waar studente wat gekies het om in byvoorbeeld inligtingstegnologie te spesialiseer, eers grondig opgevoed word in filosofie en letterkunde en dat eers ná hierdie undergraduate-periode en die uiteindelike (wyespektrum) voorgraadse kwalifikasie na die opleidingskool van voorkeur (inligtingstegnologie, of medies, regte of rekeningkunde) beweeg word? Of andersins die betroubare ou Engelse PPE (politics, philosophy, economy) van Cambridge en Oxford (by laasgenoemde reeds vanaf die einde van die 14de eeu), waar die voorwaarde tot enige beroepsopleiding ’n voorgraadse kwalifikasie is juis insake die dinge wat ’n “geleerde lewe” en sensus communis (’n algemene sin vir gemeenskapskennis), konstitueer – met die bedoeling dat, tot welke mate daar in die era van laat kapitalisme nog iets soos “beroepsvervulling” is, die beroep sélf daarby kan baat? 

4.2 Hiperspesialisasie as die logiese konsekwensie van induktiewe spesialisasie

Daar is nou reeds duidelik aangetoon dat wetenskaplike spesialisasie na die 12de-eeuse Aristoteliese verdelings en onderverdelings van spekulatiewe wetenskap en natuurlike filosofie herlei kan word. Die uitgangspunt was sedertdien altyd induktief: om van die besondere na die algemene in terme van kennisverwerwing te kan beweeg. In stede daarvan dat die opvoeding op die algemene fokus en toegelaat word om spontaan na die besondere te beweeg, begin die opvoeding met die besondere, hoopvol dat dit tog spontaan na die algemene sal beweeg. Die oop senuweepunt is dus die verhouding tussen die nis en die vak; of die besondere (in filosofiese vaktaal, die partikuliere) en die algemene (die universele). Vergun my die geleentheid om vanuit my eie vakgebied, die deeldissipline Middeleeuse Filosofie vanuit die dissipline Ideëgeskiedenis vanuit die vak Filosofie te illustreer.

Hiperspesialisasie is inderdaad een van die drie werklik tergende metodologiese probleme wat ek in my eie deeldissipline die afgelope twee dekades aangemerk en probeer aanspreek het.20 Die probleem wat my vakgebied ten opsigte van hiperspesialisasie ervaar, is waarskynlik aanwesig in elke ander universiteitsdissipline (dit staan die leser vry om die probleem na die eie vak, dissipline en deeldissipline toe te vertaal). Dit gaan naamlik oor die huidige (gespanne en onproduktiewe) verhouding tussen spesialisnavorsing en vaknavorsing binne elke dissipline. 

Spesialisasie en spesialisnavorsing is natuurlik onmisbaar in elke vak en dissipline; net so lewer die Middeleeuse spesialisnavorsing tans, vanuit die ontleding (buite die nis of onderontwikkelde spesialisruimte) van onbekende en onderbeklemtoonde denkers soos Johannes van Salisbury, Robert Kilwardby en Quidort (Johannes van Parys) ’n wesenlike bydrae tot die eksegese van die Middeleeuse korpus en stel dit die wyer vaknavorser in staat om binne die vak met verantwoordelikheid te kan kommentarieer. Tog bly die spesialisnavorsing dikwels stil en gedemp binne die nisse self en het dit feitlik geen effek op die gevestigde kanon of kurrikulum van die dissipline nie. Die nisse is geslote en ontoeganklik en volstaan met die uitsette binne die nis self, met die gevolg dat spesialisnavorsers binne ’n bepaalde nis nog net met mekaar kommunikeer en in effek nie belang stel of die nisuitkomste die vaknavorsing, en daarom die vak self, uiteindelik wel dien nie.21 Dat sommige historiese denkers in die deeldissipline van Middeleeuse filosofie meer gevolgryk en meer invloedryk as ander denkers was, is waar. Maar geen historiese eksponent in hierdie deeldissipline het in isolasie presteer nie. Dit was juis die sosiohistoriese konteks, bemiddel deur baie ander denkers en kontekste, voorafgaande en tydgenootlik tot ’n spesifieke uitset, wat die skrywer van daardie uitset in staat gestel het om wel ’n prestigebydrae te kon lewer – en dit geld ook vir die gestandaardiseerde denkers en navorsingstemas in elke ander vak en dissipline. Die spontane vraag is of daardie konteks buite die nisnavorsing, ongeag die vak, verreken word – en die hermeneutiese antwoord daarop is dat dit oorwegend nie die geval is nie.22

Enersyds beteken dit dat die spesialisnavorsing oopgebuig en die vak, as inderdaad ’n tegniese akademiese vak, deur middel van ’n rehabiliterende aksent op die niegekanoniseerde bydraes verryk moet word. Daar moet meer werk “tussen” die spesialisnavorsing en die vaknavorsing gedoen word ten einde hierdie effek van (’n na binne gekeerde, geslote en vakmatig uiteindelik onproduktiewe) hiperspesialisasie in die deeldissipline die hoof te bied. “Bywerkende” navorsing kan baie vermag om hierdie hipergespesialiseerde, dikwels ontoeganklike nisse oop te buig en as’t ware “terug na die vak” te bring. Die “bywerkende” beweging tussen vaknavorsing en nisnavorsing wat ek in gedagte het, sou met die beeld van ’n uurglas geïllustreer kon word: Vanuit die breë vaknavorsing word as't ware in die smal ronding van die nis ingesak, om van daar bywerkend en uitgaande terug te keer na die vaknavorsing self. Dit beteken dat toegegee word dat daar altyd spesialisnavorsers sal wees wat tevrede is om binne daardie smal ronding te vertoef en trouens altyd jaloers oor die unieke smalheid en beperktheid daarvan sal waak (met die ongelukkige gevolge van persoonlike vereensaming, polemieke vanuit verdelende spesialiskonfrontasies23 en ongesonde kliekvorming). In dieselfde mate kan toegegee word dat daar altyd vaknavorsers sal wees wat net oorhoofs kennis sal neem van wat binne die nisse of spesialisruimtes plaasvind, maar self nie tot ’n spesialisruimte wil toetree nie. In beide gevalle bly die kanon van Middeleeuse filosofie (en die kanon van enige ander dissipline of vak) so onaangeraak as wat dit reeds en steeds is.

Wat ek tussen hierdie twee vakruimtes van spesialisnavorsing en vaknavorsing in gedagte het, is dat daar ’n derde groep navorsers in enige vak behoort wees wat na aanleiding van bogenoemde beeld uurglasnavorsers genoem kan word, wat moontlik self in ’n nis werksaam kan wees, maar wat hierdie uurglasbeweging wil fasiliteer juis deur buite die eie nis, navorsingsoogmerke en belangstellings te beweeg. Vanuit so ’n middelposisie, tegelyk “buite” die vaknavorsing en “binne” die spesialisnavorsing, met die oogmerk om nisuitkomste uitdruklik by te werk vir die dissipline en die vak, kan die kanon se houvas op die gestandaardiseerde inhoude van die vak verbreek word. Trouens, die kanon van enige vak kan ironies juis daarmee verruim word, wanneer die nisgeïsoleerde vaktemas uit die donker enklaves van die skugter nisse gehaal en teruggebring word na die lig van die vak toe. Dan word die uurglas omgedraai en herhaal die bywerkende proses sigself – na dieselfde denker of tema, of na ’n ander, of verwante, denker of tema. So word die navorsingsmoontlikhede in die dissipline van enige vak as weliswaar onuitputlik gestel: Daar sal altyd weer iets nuuts wees om te doen, ongeag hoe oud die dissipline en ongeag hoe lank afgestorwe haar outentieke eksponente is. Dit geld vir enige vak, dissipline en deeldissipline in die eietydse universiteitswese wat onder die lading van hiperspesialisasie gebuk gaan. 

In kort: So nodig en produktief as wat gebalanseerde spesialisasie is, bring hiperspesialisasie interne spanning in enige vak of dissipline mee, in die sin dat daar mense binne die betrokke vak werk wat alles van iets in die vak weet, en dat daar mense binne die vak werk wat niks binne die vak werklik goed ken nie. Dit is uiteindelik die vak self wat deur hiperspesialisasie verarm word – en dit is weer “wysheid” wat op die lang duur geen kans op ’n sonderlinge aanbod gegun word nie.

4.3 Hiperspesialisasie en die prioritisering van die meganiese

Die derde aspek van hiperspesialisasie het te make met die prioritisering van die meganiese (Hugo se M) in die eietydse wetenskapsbegrip. Die tegnisering van kennis tot instrumentele vaardigheid en vaardigheidsontwikkeling, met voorrang aan die meganiese, is die uitstaande kenmerk van die 21ste-eeuse universiteitswese wêreldwyd se eentonige, generiese “visies” en “missies”. Die universiteitswese het lank terug al afskeid geneem van Hugo se sambreelbegrippe sapientia en philosophia, waaronder álle fakulteite, vakke en dissiplines veronderstel was om tuisgebring te word. Sapientia en philosophia is sedertdien beperk tot filosofie en miskien literatuurwetenskap, asof wysheid die inhoud van enige besondere vak kan wees. 

Hierdie prioritisering van die meganiese gaan terug op die volgende vier oorsake: 

1. Die meganiese dissiplines M leen sigself tot ’n eenvoudiger en meer vaartbelynde spesialisasie as enige van die dissiplines in T, P en L. Die ingenieurstudent wat byvoorbeeld ’n gekombineerde graadkursus (en hierdie “kombinasiekursusse” self word al meer algemeen, omdat dit spesialisasie in selfs meer as een vak tegelyk bemoontlik) in elektroniese ingenieurswese en lugvaartingenieurswese volg, bevind hom of haar in ’n domein van eindelose spesialisasiemoontlikhede binne daardie gekombineerde, hiperspesifieke domein self. Die navorsingsuitsette vanuit daardie hiperspesifieke domein is konkreet en onmiddellik toepasbaar op die nis en aanverwante nisse, wat uiteraard (in terme van “oorspronklike”, “geakkrediteerde” publikasies) institusioneel verwelkom sal word. Die betrokke student self verkeer egter onder die indruk dat so ’n dubbelgekwalifiseerde, sonderlinge kwalifikasie optimale werksgeleenthede sal verseker. Dit is ongelukkig onwaar. Juis omdat hierdie student so hiperspesifiek opgelei is, is toepaslike en nistoegepaste werksgeleenthede in werklikheid skaars. Dit is ’n feit dat die meerderheid ingenieurs vandag in ander ingenieursvelde werk as dié waarin hulle opgelei is.

2. Binne die eietydse, gedrewe bestuurskultuur waarin net die uitvoerende hoof (CEO) en finansiële hoofbeampte (CFO) nog die eerste en laaste woord spreek, word M veel makliker “bestuur” as T, P en L, aangesien M in die universele syfertaal van die quadrivium plaasvind. Dit is nie nodig om met die besondersheid van die student (onder meer kultureel, sosiohistories, etnies en linguisties) rekening te hou nie: In M is almal immers in alles dieselfde, omdat alles in binêre taal gekodeer is. Daarom is die M-dissiplines spontaan interdissiplinêr, aangesien dit vanuit “een taal” werk, wat daardie taal ook al mag wees: Solank as wat dit dieselfde taal is, kan gemaklik oor die grense van die rubrisering van vakke beweeg word. Daarom kan die huidige universiteitswese effektief bestuur word deur besigheidslui (en politieke kommissarisse, vir wat dit werd is) en hoef die universiteit nie verder onder die leiding van deurwinterde akademici te staan nie. Daarom is die kliëntgesentreerde besigheidsmodel ook heeltemal toepaslik binne die eietydse universiteitswese: Om winsgewendheid te optimaliseer, benodig die universiteit, soos enige ander laatkapitalistiese organisasie, gelukkige kliënte. Die kliënte kan gelukkig gehou word slegs indien die kliënte die produk waarvoor hulle ten duurste betaal het, per kontraktuele ooreenkoms in terme van prestasie en teenprestasie, in ontvangs kan neem. Daar kan nie enige bykomende eise gestel word nadat die betaling van studiegelde as kontraktuele prestasie aangebied en ontvang is nie. Die kliënte kan ook net as die produk wel werk, gelukkig gehou word. In hierdie geval werk die produk as die kliënt daarmee kan gaan werk of suksesvol werk gekry het. Dit bring mee dat die kliënt in die posisie gestel word om verbruikerseise aan die universiteit as kliëntgesentreerde maatskappy te stel, af te dwing en selfs met buitengewone regsaksie te dreig indien die kliënt se belange, of die tydige aflewering van die produk, op welke wyse ook al gekompromitteer word. Dit geld ook vir die eksaminering van die kliënt, in welke fase van hierdie ekonomiese en ten diepste onakademiese verbintenis ook al. Daarom is dekane in geesteswetenskappe en teologie al vir dekades (daar was en is natuurlik welkome uitsonderinge) keiharde bestuurders en nie pastorale versorgers van die akademici en die vakke wat per fakulteit aan hulle sorg toevertrou is nie. Daarom is die verhouding tussen departementshoofde en departementslede dikwels gespanne – die departementshoof soek produksie en kwantifiseerbare uitset, terwyl die departementslede nog heimlik na wysheid en selfvervulling vanuit die vak se unieke draagwydte smag. Tussen die bestuursgedrewenheid en kliëntsentrisme wat dit eietyds kenmerk, het die universiteit as roemryke Westerse instelling nie net onherkenbaar verander nie, maar het die Platoniese wysheidsideaal, gekoppel aan die idee van die universiteit, synde ’n ruimte vir die opvoeding en vorming van die individu ter begeleiding tot selfkennis, ook wegdoenbaar geword. 

3. Binne die konteks van sosialemanipulasieprojekte en sosio-ekonomiese heropbou-en-ontwikkelingsprogramme is die meganiese dissiplines (M) duidelik meer toepaslik, met ook nog die laatkapitalistiese verbruikerskonteks daarby ingereken. Dit hoor ons tog tot oormaat van duidelikheid: “In Suid-Afrika het ons ingenieurs, bourekenaars, stelselontleders en bedryfsrekeningkundiges nodig – nie filosowe, taalkundiges of digters nie.” Daarom sneuwel departemente binne die geesteswetenskappe eerste wanneer die universiteit vanuit “bestuursoorwegings koste-effektief herbelyn” moet word. Dit geld veral vir die historiese wetenskappe, klassieke tale (Latyn en Grieks), die eietydse Romaanse en Germaanse tale, spesifieke, juis nabye tale (Afrika-tale, met Afrikaans en Afrikaans-Nederlands daarby ingesluit), terwyl Semitiese tale sonder skroom na iets soos Islamkunde toe uitgeskuif en effektief uit die (Engelse) akademiese lewe geweer word.

Daarom is dit nie verder nodig om Latyn I te slaag sodat Romeinse Reg II daarmee geneem kan word, wat ’n voorwaarde was vir die voldoening aan die vereistes van die grondige LL.B. van weleer nie. Daarom is ons vandag omring deur “regsgeleerdes” wat nie ’n woord Latyn ken of verstaan nie, wat daarom nie hulle primêre bronne (in Suid-Afrika se geval die Romeins-Hollandse Reg) ken nie, en juis daarom nie langer as retories en vakhistories behendig geag kan word nie – bekwaam nog, maar nie meer behendig nie; regspraktisyns nog, maar gewis nie meer regsgeleerdes nie. Daarom is daar ook nie meer onderwysers wat Zoeloe en Afrikaans as hoofvakke vir die toepaslike en uitstekende onderwysgraad van weleer, B.Ed., neem nie. Met die aandrang op toepaslikheid en produksie is dit weer T, P en L wat blootgestel word, terwyl M se skynprioriteit arbitrêr botvier.

4. Met die prioritisering van die meganiese (M) word die knaende probleem van die volkstaal binne hoër onderwys glad verbygegaan. Omdat alles per M in die universele syfertaal van die quadrivium gefasiliteer word (juis ten einde ’n “wêreldklas universiteit” te wil wees wat graag teen ander universiteite gekwantifiseerd geweeg en afgeweeg wil word), kan alles goedskiks in Engels plaasvind. Daar is geen verdere noodsaak aan die oorweging van Vlaams, Frans-Kanadees, Baskies, Sotho of Afrikaans as onderrigtale nie. Maar juis dan hoef ook geen verantwoordelikheid geneem te word vir die inhoude van T, P en L as sodanig nie. Daarom kan die grammatikale- en literatuurskat van elke besondere taal maar akademies verwaarloos word – “taal” is immers nie langer die universiteit se eerste of selfs laaste opgaaf nie. Daarom is dit skynbaar ook geen probleem dat predikante in ’n kerk wat volledig Afrikaans is, grootliks in Engels deur dosente van ander en anderstalige kerke opgelei word nie. Die fakulteit teologie het immers nog net ’n verantwoordelikheid teenoor die produksietaal van M, en nie langer teenoor die L, die besondere verkondigingstaal van ’n besondere kerk nie. Dat die kuratoria van hierdie en ander kerke in ’n soortgelyke posisie hulle dit kennelik laat welgeval, dui op die omvang van die ellende wat volg op die meganisering van alle kosbare dinge. Soos Alcuin al vroeg in die Middeleeue aangetoon het, verdien elke mens immers om vanuit die unieke volkstaal van daardie persoon pastoraal versorg en vertroos te word.

 

5. Slotmymeringe: ’n Alternatiewe universiteit vir die 21ste eeu? 

So tegnies as wat voorafgaande afdelings mag aandoen, is die oogmerk daarvan nie om bloot met ’n tegniese regstelling rakende die kwessie van hiperspesialisasie in die eietydse universiteitswese gemoeid te wees nie, maar om ’n bydrae te lewer tot die gesprek oor die metafisiese tradisie vandag; om dus ’n eietydse pleidooi te lewer vir die erkenning van die fundamentele aanspraak van die geheel (teenoor die deelaspekte van die geheel en die vermindering van die geheel tot die deelaspekte daarvan). Anders gestel, die Hugoïaanse wysheidsideaal wat in die voorafgaande afdelings verwoord is (en trouens in geheel die Westerse filosofie tot uitdrukking gebring word), kan nie los verstaan word van die metafisiese tradisie waarin dit gebed is nie; ’n tradisie wat krities bedag was (en steeds behoort te wees) op die gevare van reduksionisme, waar die deel met die geheel ten koste van die geheel verwar word. Terselfdertyd wil daar nie in die slaggat getrap word om die geheel los van die deelaspekte daarvan te probeer konstrueer nie. Hugo se delikate sin vir sowel die geheel as die deelaspekte daarvan getuig van ’n insig in ’n gebalanseerde verhouding tussen geheel en deel, as sodanig van ’n bestendige metafisika. Binne die eietydse konteks van die filosofiese verdaging van alles wat nog as “metafisies” gereken kan word, speel hierdie gebalanseerde greep ’n belangrike en temperende rol.24

Die unieke institusionele beslag van die ou Platoniese idee van die universiteit die Akademie – verkeer teen die agtergrond van die voorafgaande afdelings, in terme van die toenemende korporatiewe kwaliteit van die eietydse werksaamhede van die desmalige studium generale, soos die skrywer se gewaardeerde Doctorvater Johan Snyman (1997) met sy intreerede op 5 Junie 1996 benadruk het, “op die rand”. Is ’n syfergeoriënteerde kliëntedienssentrum die aangewese plek vir die vorming en opvoeding van studente, in die Hugoïaanse sin van die woord? Natuurlik is dit ’n komplekse vraag waarop wydgaande gereageer kan word. Onderstaande wil daarom nie meer aanbied as ’n verrekening van die skade wat gely word op grond van die verlies aan die Westerse wysheidsideaal, en nogeens, die verbygaan van die metafisiese tradisie in die eietydse idee van die universiteit nie.25

In ’n filosofies-spekulatiewe oorweging van bogenoemde vraag sou opvolgend eers gevra moet word of die “gemiddelde” en “gangbare” 21ste-eeuse universiteit (wat in talle lande, juis ook in Suid-Afrika, deel van die staatsapparaat vorm en effektief deur die staat beheer word, met die ideologisering van wetenskapsbeoefening ’n gegewe en akademiese onafhanklikheid onder beleg) die enigste moontlike universiteit is. Indien daarop geantwoord sou word, vanuit welke vertrekpunt ook al, dat dit nié die enigste moontlike universiteit is nie, kan enkele opvolgende vrae in terme van die oorweging van ’n “alternatiewe universiteit” dalk geopper word.

Dan sou in logiese opvolging gevra kon word of daar dalk iets soos ’n alternatiewe universiteit is of kan wees, wat spesifiek die ou Hugoïaanse woord as vertrekpunt sou stel: Omnium expetendorum prima est sapientia: Wysheid bo alles – wetende dat die “res” weldra sal volg. Indien daar so ’n alternatiewe universiteit kan wees, sou dit vanselfsprekend ter wille van ’n algehele onafhanklikheid van die staat privaat befonds móés word (soos juis weer Stanford Universiteit) en vanuit daardie ekonomiese en institusionele onafhanklikheid oor die vryheid beskik om elke kurrikulum self te bepaal. Eers dan sou so ’n alternatiewe universiteit ’n intellektuele ruimte vir die bevordering van wysheid, intellektuele vorming en algemene mensopvoeding kon konstitueer. Dit sou daarom dán eers ’n institusionele ruimte vir die bevordering van sowel die oogmerke van die trivium, die quadrivium as Hugo se vierdelige TPML kon wees.

Dit sou ’n universiteit wees, analogies aan die magisteruniversiteit te 12de-eeuse Parys – en nie die “studente-universiteit” te laat 11de-eeuse Bologna nie – waar die belange van dosente en administratiewe personeel eerste gestel word. Die belange van die akademiese en administratiewe personeel word by so ’n alternatiewe universiteit eerste gestel eenvoudig omdat tóé al by Parys ingesien is dat ’n gelukkige, vervulde dosent wat werklik onvoorwaardelike liefde vir sy of haar vak koester, of ’n beampte, vanaf ontvangs tot by sekuriteit, wat werklik liefde vir sy of haar nering het, gelukkige studente (nie kliënte nie) sal opvoed, vorm, begelei en sal beskerm: “gelukkige studente” omdat hulle geleer en met afgemete tempo veilig vorentoe geneem word – en nie bloot tegnies opgehef word nie.

Dit sou daarom ’n universiteit wees waar dosente tyd sou hê vir meer kontemplasie en minder administrasie, stilgroeiende belesenheid, ’n spontane verbreding van die vakregister, met ’n natuurlike gewilligheid tot selfonderbreking – juis omdat daar niks is behalwe die vak en wysheid jenseits die vak, wat presteer hóéf te word nie. By so ’n alternatiewe, oudwêreldse universiteit word die bronne van éérs “wysheid” en dán “kennis” met erns geneem. Dan word studente se diepste belange in elk geval by verstek gedien, want ’n wyse student sal altyd na kennis soek. Daarteenoor sal ’n vertegniseerde student wat reeds oor die basiese vakkennis beskik, in geen soeke na wysheid belangstel nie.

By so ’n alternatiewe universiteit sal die M-fakulteite en -departemente die eerste wees wat gesluit sal word indien enige fakulteit of vak (hoegenaamd) ekonomies onbekostigbaar geword het, en as dit daarop aankom, sou die T-, P- en L-fakulteite en -departemente die laaste wees wat verdwyn. Filosofie as sodanig verlaat by so ’n alternatiewe universiteit die skip heel laaste. Tog sou so ’n alternatiewe universiteit, met haar unieke institusionele intelligensie, weet dat tegniese kolleges en, veral na die Nederlandse model, “tegniese universiteite”, werklik ’n verantwoorde plek het, aangesien M weliswaar meer outentiek “daar hoort”. En tog besef so ’n alternatiewe universiteit dadelik dat M nie sonder meer “daar” hóéf te “hoort” nie. So ’n alternatiewe universiteit sou die oogmerk van Hugo se M steeds met genoeg erns neem dat sorg getref word vir die opleiding van uitnemende ingenieurs, rekenmeesters, bourekeningkundiges, stelselontleders en so meer, maar dan op voorwaarde dat ’n student wat daar afstudeer, ’n wyse, geleerde mens sal wees, en nie bloot nóg ’n ingenieur, nóg ’n rekenmeester, nóg ’n bourekeningkundige of nóg ’n stelselontleder nie.

So ’n alternatiewe universiteit sou, steeds getrou aan die quadrivium se kwantifiserende oogmerk en universaliserende oriëntasie, sorg daarvoor tref dat die student wat hoop om in die toekoms in enige van die vakke en dissiplines van M te spesialiseer, wel in die binêre kode of syfertaal van die dissiplines van M opgelei word (in die 21ste eeu sou dit ongetwyfeld in Engels moes wees, soos wat Latyn dit in die Middeleeue was) – maar dat die vorming van die betrokke student in die plaaslike taal van die universiteit sal plaasvind. Al die ander fakulteite en vakke van die alternatiewe universiteit – dus buiten M – sou noodwendig, gegewe Hugo se eie klemtoon, ingerig moes word na die plaaslike taal van die universiteit, of dit nou Frans-Kanadees, Baskies, Fins, Vlaams, Gallies, Wallies, Xhosa of Afrikaans is.

Dit alles bring mee dat so ’n alternatiewe universiteit ten diepste gemeenskapsgebonde sal wees, juis vanuit die plaaslike taal wat op grond van die individuele opvoedingsoogmerk van die trivium so skerp voorop staan. Met “gemeenskap” word ineens “taalgemeenskap” bedoel, wat ook al die spesifieke taal van daardie gemeenskap mag wees. Hierdie alternatiewe universiteit sou elkeen van hierdie tale in die geldige trivium-aanspraak daarvan met trots tot die hoogste wetenskaplike hoogtes wou voer: met selfonderbrekende, talmende, stadig-groeiende akademici wat uit haar besonderse skoot van wysheid na vore tree.

Juis as ’n alternatief op die “gangbare” en “gemiddelde” sou so ’n universiteit grootmoedig genoeg wees om te aanvaar dat sy nooit ’n “groot” of veral ’n winsgewende instansie sal wees nie. Daarom het hierdie universiteit nie ’n bestuurder nodig nie; dalk net ’n latinis of ’n filosoof wat die vakkundige dinge pastoraal versorg, en ’n paar goed-opgeleide rekeningkundiges vanuit haar eie M-geledere, analogies aan ’n betroubare fiskus by ’n ou kerk, wat beskeie inkomste en onbeskeie uitgawes maandeliks nougeset aanteken en met ’n soepel begroting werk – met die vaste wete dat daar altyd weer voorsien sal word, vanuit die gemeenskap self. Uiteindelik is dít wat sensus communis in die 21ste eeu kan beteken.

 

Bibliografie

Abelardus, P. 1919. Logica: Logica ingredientibus et Logica Nostrorum Petitioni. Beitrage zur Geschichte der Philosophie des Mittelalters, 15. Münster: Aschendorff.

—. 1971. Dialectica. De Rijk, L.M. (red.). Assen: Van Gorcum.

Adamson, P. en R.C. Taylor (reds.). 2005. The Cambridge companion to Arabic philosophy. Cambridge: Cambridge University Press.

Andres, F. 1921. Die Stufen der Contemplatio in Bonaventuras Itinerarium mentis ad Deum und in Benjamin major des Richards von St Viktor. Franziskanische Studien, 8:189–200.

Aris, M-A. 1996. Contemplatio: philosophische Studien sum Traktat Benjamin maior des Richard von St Viktor, mit einer verbesserten Edition des Textes. Frankfurt am Main: J. Knecht.

Armstrong, A.H. (red.). 1967. The Cambridge history of later Greek and early Medieval philosophy. Cambridge: Cambridge University Press.

Avempace. 1963. Governance of the solitary. Berman, L. (vert.). In Lerner en Mahdi (reds.) 1963:122–33.

Beukes, J. 2011a. God kan net doen wat God wel doen: Petrus Abelardus se Megariaanse argument in Theologia Scholarium, Opera Theologia III. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 67(3), Art. #883, ble. 1544–55. https://doi.org/10.4102/hts.v67i1.883.

—. 2011b. Die konstellasie taalbegrip-logika in die Middeleeuse filosofie (1): Augustinus tot Aquinas. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 67(3), Art. #1072, ble. 1910–25. https://doi.org/10.4102/hts.v67i3.1072.

—. 2019a. Policraticus en Metalogicon: ’n Bywerking van die Saresberiensis-navorsing, 2013–2018. Verbum et Ecclesia 40(1), Art. #1959, ble. 1–14. https://doi.org/10.4102/ve.v40i1.1959.

—. 2019b. De potestate regia et papali: ’n “Uurglas”-bywerking van die mees onlangse Quidort-navorsing. LitNet Akademies, 16(2):109–68. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2019/10/LitNet_Akademies_16-2_Beukes_109-168.pdf.

Bonaventura. 1882. De reductione artium ad theologiam. Doctoris seraphici S. Bonaventurae Opera Omnia, Volume V. Quaracchi: Collegium St Bonaventurae.

Brower, J. en K. Guilfoy (reds.). 2006. The Cambridge companion to Abelard. (Cambridge Companions Online.) Cambridge: Cambridge University Press.

Brown, S.F. en J.C. Flores. 2007. Peter Lombard. Historical dictionary of medieval philosophy and theology. Plymouth: The Scarecrow Press.

Burnett, C. 2005. Arabic into Latin: The reception of Arabic philosophy into Western Europe. In Adamson en Taylor (reds.) 2005:370–404. 

Champeaux, W. 1993. Introductiones dialecticae secundum Wilgelmum en Secundum G Paganellum. Iwakuma, Y. (red.). Cahiers de'l Institur du Moyen-age Grec et Latin, 63:45–114.

Colish, M.L. 1992. Peter Lombard and Abelard: The Opinio Nominalium and Divine transcendence. Vivarium. A Journal for Medieval and Early-Modern Philosophy and Intellectual Life, 30(1):139–56.

—. 1994. Peter Lombard. Volumes I en II. Leiden: Brill.

—. 1997. Medieval foundations of the Western intellectual tradition, 400–1400. New Haven: Yale University Press.

Colker, M.L. 1962. Richard of St Victor and the anonymous of Bridlington. Traditio, 18:181–227.

Copleston, F.C. 1993. A history of philosophy. Volume II, Medieval philosophy. New York: Doubleday.

Daniel, N. 1979. The Arabs and medieval Europe. New York: Longman.

DiLorenzo, R.D. 1982. Imagination as the first way to contemplation in Richard of St Victor’s Benjamin minor. Medievalia et Humanistica, 11:77–96.

Dronke, P. (red.). 1988. A history of twelfth-century Western philosophy. Cambridge: Cambridge University Press. 

Eco, U. 1997. The search for the perfect language. Fentress, J. (vert.). Oxford: Blackwell.

Emery, K. jnr. 2006. Richard of St Victor. In Gracia en Noone (reds.) 2006:588–94.

Evans, G.R. (red.). 2002. Mediaeval commentaries on the Sentences of Peter Lombard. Current Research, Volume I. Leiden: Brill. 

Fakhry, M. 1970. A history of Islamic philosophy. New York: Columbia University Press.

Finn, T.M. 2011. Sex and marriage in the Sentences of Peter Lombard. Theological Studies, 72:41–69.

Gabbay, D. en J. Woods (reds.). 2008. Medieaval and Renaissance logic. Amsterdam: Elsevier.

Goodman, L.E. 1996. Ibn Bajjah. In Nasr en Leaman (reds.) 1996:294–312.

Gorman, M. 2006. Hugh of St Victor. In Gracia en Noone (reds.) 2006:320–5. 

Grabmann, M. 1957. Die Geschichte der scholastischen Methode. Volume II. Berlyn: Akademie Verlag. 

Gracia, J.J.E. en T.B. Noone (reds.). 2006. A companion to philosophy in the Middle Ages. Oxford: Blackwell. 

Guilfoy, K. 2012. William of Champeaux. The Stanford encyclopedia of philosophy. Winter 2012-uitgawe. Zalta, E.N. (red). (31 Januarie 2019 geraadpleeg.)

Hamid, I.S. 2006. Avempace. In Gracia en Noone (reds.) 2006:172–3. 

Haren, M., 1985, Medieval thought. The Western intellectual tradition from antiquity to the thirteenth century. Londen: Macmillan.

Hödl, L. 2002. Die Sentenzen des Petrus Lombardus in der Diskussion seiner Schule. In Evans (red.) 2002:25–40.

Hyman, A., J.J. Walsh en T. Williams (reds.). 2010. Philosophy in the Middle Ages: The Christian, Islamic and Jewish traditions. Indianapolis: Hackett.

Hofmeier, J. 1964. Die Trinitätslehre des Hugo von St Viktor. München: Max Hueber.

Hugo. 1854. Opera Omnia, insluitende De Sacramentis christiane fidei. Migne, J-P. (red.). http://patristica.net/latina 175–7 (22 Oktober 2018 geraadpleeg).

—. 1961. The Didascalicon of Hugh of St Victor. A Medieval guide to the arts. Taylor, J. (vert., inl. en komm.). New York: Columbia University Press. 

Illich, I. 1993. In the vineyard of the text: A commentary to Hugh’s Disdascalicon. Chicago: University of Chicago Press.

Iwakuma, Y. 1992. Vocales, or early nominalists. Traditio, 47:37–111.

—. 1999. Pierre Abélard et Guillaume de Champeaux dans les premières années du XIIe siècle: Une étude préliminaire. Langage, sciences, philosophie au XIIe siècle. Baird, J. (red.). Parys: Vrin. 

—. 2006. Influence. In Brower en Guilfoy (reds.) 2006:305–35.

Kretzmann, N., A. Kenny en J. Pinborg (reds.). 1982. The Cambridge history of later Medieval philosophy. Cambridge: Cambridge University Press.

Lerner, R. en M. Mahdi (reds.). 1963. Medieval political philosophy. A source book. Toronto: The Free Press of Glencoe.

Lombardus, P. 1854. Opera Omnia, Sententiae. Volumes 1 tot 4. Migne, J.-P. (red.). Patrologia Cursus Completus, Series Latina 191/192. http://patristica.net/latina 191 en 192 (19 Oktober 2018 geraadpleeg). Vir die mees onlangse vertaling vanuit Latyn na Engels, sien Silano 2007–2010.

—. 1971. Prolegomena, Sententiae in IV libris distinctiae. 2 Volumes. Brady, I. (red.). Rome: Editiones Collegii S. Bonaventurae ad Claras Aquas.

Luscombe, D. 2004. Medieval thought. Oxford: Oxford University Press. 

Marenbon, J. 1988. Early Medieval philosophy (488–1150). An introduction. New York: Routledge.

—. 1992. Vocalism, nominalism and the commentaries on the Categories from the earlier twelfth century. Vivarium, 30:51–61. 

—. 2006a. William of Champeaux. In Gracia en Noone (reds.) 2006:690–1.

—. 2006b. Life, milieu, and intellectual contexts. In Brower en Guilfoy (reds.) 2006:13–44.

—. 2010. The development of logic in the twelfth century. In Pasnau en Van Dyke (reds.) 2010:129–45.

Mews, C.J. 2005. Abelard and Heloise. Oxford: Oxford University Press.

Monagle, C. 2013a. Theology, practice and policy at the turn of the thirteenth century: The Papacy and Peter Lombard. Journal of Religious History, 37(4):441–56. 

—. 2013b. Orthodoxy and controversy in twelfth-century religious discourse: Peter Lombard’s Sentences and the development of theology. Brepols: Turnhout.

Montada, J.P. 2005. Philosophy in Andalusia: Ibn Bajja and Ibn Tufayl. In Adamson en Taylor (reds.) 2005:155–79.

Nasr, S.H. en O. Leaman (reds.). 1996. History of Islamic philosophy. Londen: Routledge. 

Nederman, C.J. 2005. John of Salisbury. Tempe, AZ: Arizona Center for Medieval and Renaissance Studies.

O’Daly, I. 2018. John of Salisbury and the Medieval Roman Renaissance. Manchester: Manchester University Press. 

Ott, L. 1949. Hugo von St Viktor und die Kirchenväter. Divus Thomas, 3:180–200; 293–332.

Palmén, R. 2014. Richard of St Victor’s theory of imagination. Leiden: Brill.

Pasnau, R. en C. van Dyke (reds.). 2010. The Cambridge history of Medieval philosophy, Volume I. Cambridge: Cambridge University Press.

Peters, F.E. 1968. Aristotle and the Arabs: The Aristotelian tradition in Islam. New York: New York University Press. 

Polenius (Pullen), R. 1854. Sententiarum libro octo. Migne, J.-P. (red.). http://patristica.net/latina 186 (19 Oktober 2018 geraadpleeg). 

Poppenberg, P.E. 1937. Die Christologie des Hugo von St Victor. Münster: Hiltrup.

Rosemann, P.W. 2004. Peter Lombard. Oxford: Oxford University Press.

—. 2006. Peter Lombard. In Gracia en Noone (reds.) 2006:514–5.

—. 2007. The story of a great Medieval book: Peter Lombard’s Sentences. Ontario: Broadview Press.

—. 2015. Introduction: Three avenues for studying the tradition of the Sentences. In Rosemann (red.) 2015:1–25. 

Rosemann, P.W. (red.). 2015. Mediaeval commentaries on the Sentences of Peter Lombard. Volume 3. Leiden: Brill. 

Schütz, C. 1967. Deus absconditus, Deus manifestus: Die Lehre Hugos von St Viktor über die Offenbarung Gottes. Rome: Herder.

Silano, G. (vert.). 2007. Peter Lombard: Sentences. Book I: The mystery of the Trinity. Toronto: Pontifical Institute of Medieval Studies.

—. (vert.). 2008a. Peter Lombard: Sentences. Book II: On creation. Toronto: Pontifical Institute of Medieval Studies. 

—. (vert.). 2008b. Peter Lombard: Sentences. Book III: On the incarnation of the Word. Toronto: Pontifical Institute of Medieval Studies.

—. (vert.). 2010. Peter Lombard: Sentences. Book IV: The doctrine of the Signs. Toronto: Pontifical Institute of Medieval Studies.

Snyman, J.J. 1997. Filosofie op die Rand. Intreerede as professor in filosofie, gelewer op 5 Junie 1996, Randse Afrikaanse Universiteit. Koers 62(3):277–306. 

St Viktor, R. 1855. Opera Omnia. Migne, J.-P. (red.). http://patristica.net/latina 196. Die teks is in 2008 herdigitaliseer. (31 Januarie 2019 geraadpleeg.)

—. 1958. De Trinitate. Ribaillier, J. (red.). Parys: Vrin.

—. 1979. The twelve patriarchs, The mystical ark, book three of The Trinity. Zinn, G.A. (vert.). New York: Paulist Press. 

Synan, E.A. 1965. Nineteen less probable opinions of Peter Lombard. Mediaeval Studies, 27:340–4. 

Tweedale, M.M. 1982. Abelard and the culmination of the old logic. In Kretzmann, Kenny en Pinborg (reds.) 1982:143–58.

—. 1988. Logic (i): from the late eleventh century to the time of Abelard. In Dronke (red.) 1988:196–226.

Vignaux. P. 1935. Luther commentateur des Sentences (livre I, distinction XVII). Études de philosophie médiévale 21. Parys: Vrin.

Walzer, R. 1967. The successors of al-Farabi. In Armstrong (red.) 1967:667–70.

Weisweiler, H. 1949. Die Arbeitsmethode Hugos von St Viktor: Ein Beitrag zum Entstehen seines Hauptwerkes De Sacramentis. Scholastik, ble. 20–4, 59–87, 232–67.

West, J.L.A. 2007. Aquinas on Peter Lombard and the metaphysical status of Christ’s human nature. Gregorianum, 88(3):557–86.

Wieneke, J. 1994. Luther und Petrus Lombardus: Marin Luthers Notizen anlässlich seiner Vorlesung über die Sentenzen des Petrus Lombardus, Erfurt, 1509/11. Dissertationen, Theologische Reihe 71. St Ottilien: EOS Verlag.

Ziai, H. 2005. Recent trends in Arabic and Persian philosophy. In Adamson en Taylor (reds.) 2005:405–25. 

Zinn, G.A. 1977. Personification allegory and visions of light in Richard of St Victor’s teaching on contemplation. University of Toronto Quarterly, 46:190–214.

 

Eindnotas 

1 Hierdie artikel is gebaseer op ’n voordrag gehou by die konferensie van die Nederlands-Afrikaanse Wijsgerig Genootschap met die tema Vorming en opvoeding op Vrydag 24 Mei 2019 te Leiden, Nederland. Erkenning word verleen aan en dank word betuig teenoor die Departement Filosofie en die Direktoraat vir Navorsingsontwikkeling aan die Universiteit van die Vrystaat, asook Filosofische School Nederland, vir finansiële ondersteuning met betrekking tot die bywoon van hierdie konferensie en die aanbod van hierdie voordrag. 

2 Oor periodisering in die Middeleeuse filosofie, sien Beukes (2011a:1; 2011b:1). Hierdie sesdelige interne periodisering van Middeleeuse filosofie kom in kort op die volgende neer: (1) Die post-Romeinse periode (5de tot 7de eeue [410 {Alaricus I en die eerste barbaarse inval in Rome} tot 668 {d. Konstans II}], met Augustinus [354–430] en Boethius [480–524] as die belangrikste filosofiese eksponente); (2) Die Karolingiese periode (8ste en 9de eeue [742 {g. Karel I} tot 877 {d. Eriugena}], met Alcuin [730–804] en Eriugena [815–877] as die belangrikste Latyns-Westerse geleiers van die Karolingiese Renaissance, met inbegrip van die opkoms van Arabiese filosofie in Bagdad en Andalusiese Spanje); (3) Die post-Karolingiese periode (9de tot 12de eeue [877 {d. Eriugena} tot 1088 {aanvang van die kruistogte en die opkoms van die vroegste universiteitswese}], met Anselmus [1033–1109] en Abelardus [1079–1142] as die mees gevolgryke onder die Latyns-Westerse denkers wat sou baat by die rehabilitering van die antieke erfenis in die Karolingiese Renaissance); (4) Die vroeg-skolastiese periode (11de tot 13de eeue [1088 {stigting van die Universiteit van Bologna, die eerste Europese universiteit} tot 1225 {g. Aquinas}]); (5) Die hoog-skolastiese periode (13de tot 14de eeue [1225 {g. Aquinas} tot 1349 {d. Ockham}, met Aquinas, Duns Skotus en Ockham as die beroemdstes onder die hoë skolastici]); (6) Die post-skolastiese periode (14de tot 15de eeue [1349 {d. Ockham} tot 1464 {d. Kusa}]).

3 Let daarop dat Hugo hier gelees en gekommentarieer word as ’n “opvoedkundige filosoof” en nie as ’n “filosoof van die opvoedkunde” nie. Filosofie van die opvoedkunde is ’n deeldissipline van opvoedkunde met ’n eie vakterminologie en nie ’n deeldissipline van filosofie nie. Dit is ’n ironiese aanwysing, gegewe die rubriek-kritiese stemming van hierdie lesing. 

4 Ook “Hugues de Saint-Victor” en “Hugh of St Victor”. Hierdie uiteensetting is geskoei op ’n lesing van die primêre tekste van Hugo (1854; 1961) en ’n ontleding en byeenbring van die volgende sekondêre tekste: Gorman (2006:320–5); Grabmann (1957:229–322); Hofmeier (1964:2–38); Illich (1993:1–28); Poppenberg (1937:1–18); Monagle (2013:441–56); Ott (1949:180–200,293–332); Rosemann (2004:21–8,56–8); Schütz (1967:1–42) en Weisweiler (1949:59–87, 232–67).

5 Die Griekse titel Didascalicon konformeer nogal aan die de rigueur-neiging vanaf die middel van die 11de eeu om Latynse werke onder Griekse titels te sirkuleer (Anselmus se Proslogion en Monologion, Salisbury se Metalogicon en Champeaux se Dragmaticon is ander bekende voorbeelde), wat ironies is, in die sin dat nie enige van hierdie Latynse skrywers Grieks kon lees of skryf nie.

6 Vergelyk die inleiding van die bekwame vertaler en kommentator van die teks, Jerome Taylor, wat sedert die publikasie daarvan in 1961 kwalik nog enige bywerking behoef het (Illich 1993:7). In hierdie artikel word juis teruggeleun na Taylor se vertaling en kommentaar, gerugsteun deur Illich (1993) se betreklik onlangse (in vak-relatiewe sin) inleidingswerk.

7 Champeaux is belangrik in die vroegskolastiese konteks, omdat die probleem van universeles wat reeds latent by Anselmus aanwesig was, in sy werk oopgedek sou word en direk deur sy Middeleeuse opvolger, Abelardus, polemies aangespreek sou word. Daarby is Champeaux se taalfilosofie en sy filosofiese teologie wel belangrik, ten opsigte van die ontwikkelinge daarvan in die vroegskolastiek. Sien Champeaux (1993) asook die volgende sekondêre tekste: Copleston (1993:146–55); Grabmann (1957:136–41); Guilfoy (2012); Haren (1985:90–2); Hyman, Walsh en Williams (reds.) (2010:182–219); Iwakuma (1992:37–111; 2006:307–9); Luscombe (2004:47–8); Marenbon (1988:135–63; 1992:51–61; 2006a:690–1; 2006b:13–44; 2010:129–450) en Tweedale (1988:196–226). 

8 Priesters onder die gewone kanon word in die Middeleeuse literatuur met die afkorting CRSA aangedui en dit het beteken dat die betrokke priester in die Latynse kerk georden was, in ’n gemeenskap saam met ander priesters onder ’n gemeenskapsreël of regula gewoon het en dat alle eiendom binne daardie gemeenskap gedeel is. Priesters onder die gewone kanon is onderskei van priesters onder die “sekulêre kanon”, wat wel georden en aan ’n plaaslike verskyning van die kerk verbonde was, maar nie onder sodanige regula geleef het nie.

9 Hugo se werke, soos opgeneem in die Migne-uitgawe, is tans krities onder hersiening by die Hugo von Sankt Victor Institut, Philosophisch-Theologische Hochshule Sankt Georgen, in Frankfurt. 

10 Lombardus is gebore vanuit ’n beskeie familie in Lombardië, Noord-Italië en het sy akademiese opleiding as beurshouer aan die beroemde katedraalskool te Rheims ondergaan. In 1136, reeds in sy vroeë 40’s, vertrek Lombardus na Parys om verder onder Hugo by die abdy van Saint Viktor, as ’n postmagister te studeer. Hugo (1854) se De Sacramentis christiane fidei was ’n deurslaggewende invloed op Lombardus se ontwikkeling as magister in teologie en heelwat van Lombardus se vroegste werke gaan op Hugo se dogmatiese en kennislerige posisies terug. Na Hugo se afsterwe in 1141 neem Lombardus sy plek in onder die gerekende meesters van die skole in Parys, waaronder Abelardus en Gilbertius tot op daardie stadium getel het. Reeds teen 1141 was Lombardus (1854) se kommentare op die Psalms en die Pauliniese briewe wydverspreid en gerespekteerd. In dieselfde jaar word hy as kanon of uitvoerende hoof van die katedraalskool te Notre Dame verkies, wat die vernaamste voedingsbron van die teologiese fakulteit by die jong Universiteit van Parys sou word. Tydens sy loopbaan by die katedraalskool het hy die vier volumes van die Sententiae geskryf, waarvan die tweede en finale uitgawe in 1158 verskyn het. In daardie jaar word hy as biskop van Parys aangewys, op sterkte van sy onderskeiding as Magister Sententiae, oftewel “meester van die teologiese opinies”. Hoewel Lombardus die jaar daarna oorlede is, het die Sententiae voortgeleef: Dit sou vir die volgende drie eeue die basisteks vir alle magisterkursusse (eietydse doktorsgrade) in teologie wees, totdat dit in die vroeë 16de eeu deur Aquinas se Summa Theologiae vervang is. Terwyl dit waar is dat Lombardus by uitstek ’n teoloog was en ons nie ’n sistematiese filosofiese ontwikkeling van ’n selfstandige, spekulatiewe epistemologie, logika en etiek by hom aantref nie, kan hy as gevolg van die invloedrykheid van sy viervolume-Sententiae (volledige titel: Sententiae in quatuor IV libris distinctae), wat vir minstens tot die vroeë 16de eeu as die standaardhandboek vir nagraadse studies by alle teologiese fakulteite in Wes-Europa gedien het, in geen bespreking van die skolastiek verbygegaan word nie. Die Sententiae was sonder enige twyfel die mees bestudeerde en gedoseerde teologiese teks in die sentrale en latere Middeleeue. Elke magisterstudent in teologie moes sowel blyke van ’n grondige belesenheid rondom die teks gee, as in staat wees om die teks effektief te kon doseer. Daarby is Lombardus se kennislerige posisies in die Sententiae grondig in die hoogskolastiek gekommentarieer. Selfs so laat as in die voor-Reformasie was ’n jong Martin Luther nog besig om deeglik uit die teks te doseer; trouens, Luther se glossae of aantekeninge by die teks sou selfs in die 20ste eeu nog die onderwerp van intense navorsing wees (sien byvoorbeeld Wieneke (1994), asook die feit dat die gevierde Middeleeuse navorser Paul Vignaux (1935), deeglik en verantwoord (1935:2) 20ste-eeuse navorsing oor Luther se kommentaar van die Sententiae geloods het). Sien Lombardus (1854; 1971:I/1–45) en ’n ontleding en byeenbring van die volgende sekondêre tekste: Brown en Flores (2007:214–5); Colish (1992:148–56; 1994:I/1–40; 1997:274–88); Finn (2011:41–4); Grabmann (1957:359–406); Hödl (2002:25–40); Monagle (2013a:441–56; 2013b:43–72); Rosemann (2004:3–7, 34–53; 2006:514–5; 2007:13–20; 2015:1–25); Synan (1965:340–4) en West (2007:557–86). Voor Luther het van die mees vooraanstaande figure vanuit die opeenvolgende skolastiese periodes die Sententiae gekommentarieer: Hales, Bonaventura, Aquinas, Duns Skotus, Ockham, Inghen en Biel, om slegs enkeles te noem. Trouens, volgens Lombardus se een noemenswaardige eietydse biograaf, Colish (1994:I/1), met wie sy ander eietydse biograaf, Rosemann (2004:4), instemming betuig, sou dit moontlik wees om ’n intellektuele geskiedenis van die hoog- en latere skolastiek te skryf, bloot op sterkte van die kommentaar op en resepsie van die Sententiae. Die Sententiae het nie net ’n vertrekpunt verskaf vir vars 12de-eeuse teologiese nadenke teen die institusionele agtergrond van die opkomende universiteitswese nie; tot nog by die konsilie van Trent (1545–1563) was die teks deurslaggewend belangrik. Die Sententiae was nie net ’n vertrekpunt nie, maar ook ’n geordende plek van aankoms vir ’n fundamentele deel van die intellektuele en teologiese voorgeskiedenis: As ’n nuwe literêre genre, wat beslag gehad het in Anselmus se protoskolastiese werk, het dit die mees hardnekkige, onbeantwoorde argumente en vrae vanuit die oorlewering geïdentifiseer en sistematies georden in temas en rubrieke, terwyl dit die byeenbring van die belangrikste opinies of argumentatiewe posisies vanuit die oorlewering as oogmerk gehad het. 

11 Alhoewel hierdie reëling by die Universiteit van Parys as sodanig gegeld het, is dit deur talle ander Middeleeuse universiteite gehandhaaf, asook by talle kloosterskole soos dié een by Saint-Viktor. 

12 Die term teologie is uiteraard nie ’n Bybelse term nie en is trouens reeds sedert Tertullianus (160–220) in die Latynse Weste vermy. In Ad nationes bemerk Tertullianus verantwoordend drie soorte “teologie”, op sterkte van die Romeinse ensiklopedis Markus Terentius Varro (Reatinus 116VHJ–27VHJ) se onderskeid tussen die “gode van die digters”, die “gode van die filosowe” en die “gode van die stad”. In die Varoniese tradisie is die term teologie meervoudig gebruik om enige een van hierdie drie begrippe, of ’n kombinasie daarvan, ten opsigte van “die gode”, te beskryf. Juis vanweë hierdie duidelik heidense herkoms daarvan, is die term in beginsel deur Tertullianus en die ander kerkvadere vermy; ook deur Augustinus, wat die gebruik van die term teologie in Boek VI van De Civitatis Dei skerp kritiseer. Selfs wanneer Augustinus die Platoniste aanprys vir hulle aanbod van God as “sielstransenderend” en as “skepper van die wêreld”, spreek hy hulle aan as Dei cognitores (Godsgeleerdes) en nie as theologi (teoloë) nie. By Abelardus, kort voor die oorgang na die vroeg-skolastiek, tref ons die term teologie egter vir die eerste keer aan as verwysend na ’n summa van Christelike leerstellings; of selfs filosofiese leerstellings wat eksplisiet Christelike implikasies inhou, byvoorbeeld leerstellings rondom individualiteit, die persoon van die wese en die wese van die persoon, oftewel, in meer direkte filosofiese taal, leerstellinge rondom die onderskeid tussen universaliteit en partikulariteit. In sy kommentaar op Paulus se brief aan die Romeine, Expositio in epistolam Pauli ad Romanos, gebruik Abelardus gereeld die term theologia, soos wanneer hy dit in die voorwoord van die werk stel dat “die oplossing vir hierdie vrae oorgelaat word aan die eksaminering van wat in my teologie aangetref word”. Die vroegskolastici Bernardus, Hugo en Lombardus is egter steeds versigtig om die term teologie te gebruik, juis vanweë hulle weersin in aspekte van Abelardus se hiperfilosofiese teologie. By Albertus Magnus (ca. 1200–1280) word die term teologie egter sonder verdere voorbehoude vanaf Abelardus heropgeneem. Albertus gebruik die term teologie eerstens wanneer hy Aristoteles in gedagte het: Aristoteles praat immers in sy Metaphysica prontuit van “teologie” en dat die betrokke werk “teologies” is, duidelik so aan die einde van die werk waar hy oor die onbeweegde beweger of primum movens handel. Albertus vind egter nie bloot aansluiting by Aristoteles se gebruik van die term teologie aansluiting nie, maar dring daarop aan dat Christelike denkers, wat die “ware God soos in die Skrifte geopenbaar” bestudeer, die term teologie behoort te gebruik om hulle studies van filosofiese argumentvoering te onderskei. Rufus (fl. 1231–1256), ’n ietwat latere tydgenoot van Albertus, beperk die term egter weer ietwat versigtiger tot die Skrif self (met ander woorde, iemand soos Paulus is volgens Rufus ’n “teoloog” wat “teologie” bedryf), terwyl uitsette van die studente van die Bybelse tekste nie kan kwalifiseer as “teologie” nie: Enige summa is hoogstens ’n gedeeltelike verklaring of verheldering van iets wat onduidelik is of kan wees vanuit die Bybelse tekste – dus niks meer of anders as net ’n beskeie kommentaar van ’n aspek in die Bybelse tekste nie. In die begin van die 14de eeu in Parys verklaar die Dominikaan Durandus (1270–1334) egter weer dat die term teologie ’n wye en insluitende term is. Wanneer hy retories vra: “Is teologie ’n wetenskap?”, dui hy aan dat die term teologie na nadenke binne die Bybelse tekste self kan verwys (byvoorbeeld, die “teologie van die Prediker” of die “teologie van Jakobus”), na die apologetiese en kategetiese dimensies van dit wat deur die Bybelse tekste oorgelewer is, asook na die logiese afleiding van dit wat in die tekste verkondig word, deur gevolgtrekkinge vanuit voorhande Bybels-tekstuele premisses af te lei. Hierdie insluitende hantering van die term teologie, soos deur Durandus verwoord, het in die hoog-skolastiek ook die kenmerkende wyse geword waarop die term hanteer sou word, naamlik as verwysend na ’n wetenskaplike dissipline, onderskeibaar van filosofie, dog aangewese op filosofiese stelreëls (vanuit die trivium en logica novus), dus rondom veral logika, grammatika en retoriek, asook logika met ’n ontologiese dimensie.

13 Nieteenstaande die apostel Paulus se waarskuwing teen ’n verleiding tot filosofie in Kolossense 2:8, met verwysing na “misleidende teorieë en argumente”, is filosofie in die Middeleeue feitlik sonder uitsondering aan die hand van Jakobus 3:15 verstaan, waar bloot afwysend verwys word na ’n “wysheid van benede” (mooi aangebied in die 1983 Afrikaanse Bybelvertaling as “aards” en “sinlik”). Wanneer wysheid in diens van God staan, kon dit, volgens die gangbare Middeleeuse verstaan daarvan, nooit sodanig misleidend, aards en sinlik wees nie. 

14 Die Persiër Mani (215–279) het geleer dat die wêreld beheer word deur twee kragte of beginsels, naamlik lig (of die goeie) en donker (die bose), albei konkrete, materiële werklikhede, elkeen met ’n eie skepper en dringkrag. In hierdie rigiede geestelike en materiële dualisme het Augustinus aanvanklik ’n oplossing vir die probleem van die kwaad onder outeurskap van die goddelike vind. Dit het hom ook in staat gestel om sonder morele voorbehoud ’n vroulike medeganger in te neem, met wie hy tot ongeveer 385 ’n sorgvrye erotiese en sosiale verbintenis gehad het. Uit die verbintenis is ’n seun, Adeodatus, gebore (wat ook later Augustinus se denkbeeldige gespreksgenoot in De Magistro sou wees). In 383 reis ’n bekende Manicheaanse biskop, Faustus, deur Kartago en Augustinus slaag daarin om ’n oudiënsie met Faustus te bekom. Diep ontnugter deur Faustus se oppervlakkige antwoorde en onbeskeie selfaanbod, wat Augustinus as afstootlik beleef het, neem Augustinus afstand van Manicheïsme, hoewel nog nie formeel afskeid nie. Die volgende paar jaar werk Augustinus vanaf Kartago na Rome en Milaan toe, laasgenoemde op daardie stadium ’n belangriker intellektuele sentrum as die reeds kwynende Rome self. In 384 word Augustinus aangestel as munisipale professor van retoriek in Milaan. In daardie jaar neem hy formeel afskeid van Manicheïsme en begin hom verdiep in die skeptisisme van die Middel-Akademie, luister gereeld na die prediking van Aurelius Ambrosius (ca. 340–397), die biskop van Milaan, en begin om Plotinus se Enneades te lees, soos wat dit toe pas in Latyn deur Marius Victorinus (fl. 355) vertaal is. Tussen die prediking van Ambrosius en die Enneades kom Augustinus tot die oortuiging dat die werklikheid intrinsiek geestelik is, en nie materieel soos wat die Manicheane geleer het nie – en ook dat die bose nie ’n onafhanklike beginsel met ’n eie skepper en dringkrag is nie, maar eenvoudig ’n werklikheid ontdaan van die goeie.

15 In dieselfde tyd waarin die Griekse tekste toenemend beskikbaar raak op grond van die Latynse vertalings van die Arabiese vertalings van die Griekse tekste, ongeveer vanaf die 1080’s, word die strukture van onderrig en navorsing getransformeer deur die lokalisering daarvan in die studium generale (algemene studiesentrum), waarvan die mees bepalende kenmerk was dat dit studente van ver buite die onmiddellike omgewing kon trek. Hiervan was die eerste die regsfakulteit te Bologna in Italië (1088), gevolg deur die lettere- en teologiefakulteite te Parys en Oxford, asook die mediese fakulteit te Salerno. Salerno as rigtinggewende fakulteit, in daardie dissipline, sou later moes terugstaan vir die opkomende mediese fakulteit te Montpellier, maar Bologna, Parys en Oxford sou vir die volgende drie eeue nog die mees gerespekteerde fakulteite, vanuit hulle bepaalde spesialiteitsdissiplines, in die Latynse Weste verteenwoordig. Universiteite sou kort daarna slegs met regulerende (en terugwerkende) wetgewing gestig kon word, genoteer deur die keisers en bisdomme (onderhewig aan pouslike goedkeuring). Aan die einde van die 15de eeu het Europa oor meer as 70 universiteite beskik. Die studia generalia het van meet af aan een vername funksie gehad, naamlik om akademiese integriteit te waarborg. Hoe groter die effektiwiteit van hierdie waarborg, hoe groter was die prestige wat aan die betrokke instelling gekoppel is. In terme van hierdie prestige, het twee prototipe-universiteite op grond van die voorbeelde van Bologna en Parys ontstaan: die studente-universiteit (soos in Bologna) en die magisteruniversiteit (soos in Parys). Die ontwikkeling van die dus oudste universiteit, die Bologna-studium, dui daarop dat die universiteit sowel ’n monopolistiese, professionele vereniging wou wees as wat dit ’n organisasie ter beskerming van die personeel en studente daarvan wou wees. Bologna het bekend gestaan as ’n studente-universiteit omdat die meerderheid van die studente vanaf die buiteland afkomstig was en hierdie studente, wat geen plaaslike burgerregte gehad het nie, en trouens dikwels in konfrontasies met die plaaslike gemeenskap betrokke was, deur die konstitusie van die universiteit wel grondige inspraak in die verrigtinge van die universiteit self gehad het, deur middel van verkose verteenwoordigers. Die studente het self die rektore en kanseliers verkies en bindende besluite op wettige vergaderings geneem wat deur die universiteitsbestuur uitgevoer móés word. Die student, ongeag herkoms of burgerlike status, se belange is op hierdie wyse in beskerming geneem. Soortgelyke konstitusies is later deur ander universiteite oorgeneem, onder andere te Padua, maar ook ander universiteite waar die studentekorps uit ’n meerderheid buitelanders bestaan het. By verre die meeste Middeleeuse universiteite is egter geskoei op die model van Parys, oftewel as magisteruniversiteit, waar die belange van die dosent (of magister – dit is ’n persoon wat self die betrokke kwalifikasie magister, ’n eietydse doktorsgraad, geslaag het en statutêr toegelaat is om selfstandig onderrig te gee) swaarder geweeg het as die belange van die student. Die universiteit was in die eerste plek, volgens die Parys-model, ’n plek waar die magister se wetenskaplike onafhanklikheid eerbiedig moes word en die geleentheid tot die dosent se maksimum navorsingsuitset bevorder moes word. Tog is studente by magisteruniversiteite nie sonder meer as ondergeskiktes geag nie: Beide dosente en studente het kerklike status en daarom ook kerklike beskerming geniet, soos bevestig deur pous Celestine III (pous 1191–1198) in 1194 en koning Philippe Auguste (1165–1223) in 1200. Die oorsprong van hierdie klem op die belange van die magister in die Parys-model was juis die vraag na akademiese onafhanklikheid binne die konteks van die kerklike opsig. Die institusionele bron van die lettere- en teologiefakulteite te Parys was die ou katedraalskool van Notre Dame. Die kanselier van die katedraalskool was gemagtig om aanstellings en bevorderings by die nuutgestigte universiteit te maak, wat aanvanklik in die verlengstuk van die katedraalskool sou opereer. Dat akademiese aanstellings wat juis vanuit hierdie kerklike weë gemaak is, het die akademiese onafhanklikheid van die universiteit ernstig gekompromitteer en tot hewige konflik tussen die dosente en die kerk gelei. Die mees uitstaande Middeleeuse akademici se verhouding met die kerk was oor die algemeen reeds gespanne – om vanuit kerklike sanksie goedkeuring te moes ontvang vir aanstellings of bevorderings, kon nie onbepaald verduur word nie. Daarom word, in die laaste kwart van die 12de eeu, die studium getransformeer tot ’n gilde – wat van toe af universitas magistrorum et scholarium genoem is en waarvan die akademiese onafhanklikheid by die Derde Lateraanse Konsilie in 1179 bekragtig is. Aanstellings is steeds deur kanselier gedoen en bevorderings is steeds deur hom gemaak, maar die kanselier se prosedures was oop vir appèl en hersiening. Teen 1231 het die dosente verdere voorwaardes met die kerk beding, wat in daardie jaar met die pouslike bul Parens scientiarum formeel in beskerming geneem is en effektief die universiteit se akademiese onafhanklikheid gewaarborg het. Die Universiteit van Parys het daarna vinnig ontwikkel as die mees uitgelese instelling vir hoër onderrig in Europa, met vier fakulteite: lettere, teologie, regsgeleerdheid en geneeskunde. Dit was veral die fakulteit lettere wat studente van oor die hele Europa getrek het en by verre die grootste fakulteit aan die universiteit was. Die vroeg- en hoogskolastici sou by voorkeur vanuit hierdie fakulteit, en nie die teologiese fakulteit nie, werk.

16 Dit was egter die beskikbaarstelling in Latynse vertaling van Aristoteles se juis nielogiese werke in die tweede helfte van die 12de eeu wat die onderrig by die fakulteite lettere en teologie ingrypend verander het. Aristoteles se Physica, Metaphysica, De Anima en Nicomachus was nou in Latyn beskikbaar, met grondige Griekse (vanuit die Arabiese vertaling) en Arabiese kommentaar daarby. Vir die eerste keer word magisterstudente by lettere gekonfronteer met ’n “suiwer filosoof”, pura et vera. Die beskikbaarstelling van die bykans volledige oorleefde Aristoteles-korpus het die oorgeërfde Christelike lewensbeskouing van die laat 12de eeu tot in die fondamente daarvan geskud, soveel dat openbare lesings van hierdie tekste by feitlik al die universiteite verbied is. Eers nadat die Universiteit van Parys hierdie tekste in 1255 deel van die formele kurrikulum vir sowel die baccalaureus- as die magistergrade ingestel het, het ander universiteite se letterefakulteite begin volg. Van hier af sou letterefakulteite feitlik volledig fokus op Aristoteliese filosofie. Waarom is hierdie beskikbaarstelling van die bykans volledig oorleefde Aristoteles-korpus as so skokkend beleef? Die berugte Paryse veroordelings van 1277 open aspekte van die vrae wat in hierdie tyd van inderdaad intellektuele trauma na vore getree het. Dit was duidelik dat ’n suiwer heidense werklikheidsbeskouing nou teenoor die oorgeërfde Christelike lewensbeskouing van die laat 12de eeu gestel is en dat dit duidelik geword het dat die erfenis van die kerkvadere, veral van Augustinus, onder beleg gekom het. Ernstige vrae is geopper – by die universiteite, by die katedraalskole en in die kloosters: Sou dit moontlik wees om Aristoteles se filosofie te implementeer as ’n sleutel tot ’n meer grondige verstaan van die Bybelse tekste, soos wat filosofie sedert Augustinus verstaan is, of verdien Aristoteles se filosofie dat dit op eie terme hanteer en gerespekteer behoort te word? Sou dit moontlik wees om Aristoteles werklik met erns te neem, sonder om die tradisionele Christelike werklikheidsbeskouing wesenlik te herkonfigureer en aan te pas? As selfs net die volgende drie, uit die vele (216) meer, klagtes wat in 1277 geopper is in oog gehou word, word die erns van hierdie konfrontasie van Aristoteles met die Latynse Weste van die laat 12de eeu duidelik: (1) “Daar word gesê dat daar geen meer uitnemende toestand is as om jouself aan Aristoteliese filosofie oor te gee nie”; (2) “Die enigste wyse mense in die wêreld is filosowe, geskool in Aristoteles se filosofie”; (3) “Daar is geen redelike vraag wat die Aristoteliese filosoof nie in dispuut sal bring en teenspraakvry kan oplos nie, want die rede is volgens hierdie filosofie gebaseer op dinge in die wêreld.” Selfs net hierdie drie vrae dui op die intensiteit van die konflik wat na 1277 sou volg – ’n konflik wat dit selfs meer duidelik gemaak het dat teologie van filosofie geskei behoort te word, aangesien filosofie wesenlik (neo-) Aristotelies geword het. Die fakulteite teologie en lettere is met een van twee opsies gelaat: Hulle kon die Aristoteliese posisie óf verdedig óf aanveg. Keuses wat in hierdie verband gemaak is, veral tussen 1255 en 1277, het nie net individue nie, maar hele instellings teen mekaar opgestel. Die derde klag hier bo genoem verraai ’n uitermate vertroue in Aristoteliese filosofie: dat die verstaanbare inhoud van die werklikheid deur die natuurlike vermoëns en draagwydte van Aristoteliese logika, fisika, metafisika en etiek uitgeput kan word. Daar is niks wat Aristotelies gesproke nié logies en rasioneel ontsyfer kan word nie, gegewe genoeg toewyding, intelligensie en dissipline. Maar meer: Vanuit radikale Aristoteliese perspektief is die sentrale geloofsartikels van die Christelike geloof, onder andere die triniteitsleer, die leer oor die twee nature van Christus en die leer oor die inkarnasie onverstaanbaar en daarom, op daardie gronde, tereg afwysbaar. Vanuit Aristoteliese perspektief is dit eenvoudig geloofsartikels en net dit: artikels wat blindweg geglo moet word, of afgewys moet word. Dit is, na punt (3) hier bo, nie “redelike” vrae nie en ontdaan van die rede se gebaseerdheid op dinge “in die wêreld”. Dit verklaar Fides quaerens intellectum vanaf Augustinus en Credo ut intelligam vanaf Anselmus as tegnies wegdoenbaar. Dit is trouens ’n opsetlike konfrontasie met die verstaanbaarheid van die Christelike geloof. Wat vanuit hierdie konfrontasie sou plaasvind, was voorspelbaar: Aristoteliese (want daar was nie juis meer ’n ander soort nie) filosowe is toenemend verketter, terwyl die term teologie gebruik is om juis die soort kenteoretiese aktiwiteit wat vergestalt word deur die trajek vanaf Augustinus tot by Anselmus, en selfs nog tot by Abelardus, in beskerming te neem. Dit was duidelik, selfs net by die Universiteit van Parys alleen, dat Aristoteles na die Latynse Weste gekom het om te bly. Daar was ’n gesegde by die Wes-Europese universiteite van die latere 12de eeu: “’n Mens moet nooit grys hare kry by lettere nie” – bedoelende: Kry die baccalaureus (bestaande uit die sewe liberale lettere) so gou moontlik by lettere en beweeg aan na regsgeleerdheid, teologie, geneeskunde en opvoedkunde; met die implikasie dat diegene wat wel by lettere bly (vir magisterstudies, wat nou uitsluitlik in Aristoteles gespesialiseer het), mense is wat daar vinnig oud sal word en grys hare sal kry, juis op grond van die spanning tussen Aristoteliese filosofie en die ander dissiplines, veral teologie. Baie van die meesters het uit die letterefakulteite, wat nou as Aristoteliese enklaves beleef is, padgegee. Tog – en dit is die belangrike punt – was daar baie meesters wat gebly het. Daar was natuurlik radikale Aristoteliane (veral die Averroïste) onder hulle, wat van mening was dat dit filosofie se taak is om oor die werklikheid te handel en dat teologie werklikheidsvreemd is, in die sin dat dit handel oor sake wat ontdaan is van verstaanbaarheid. Maar daar was ook gebalanseerde denkers, wat juis Aristoteles se praktiese roete van phronesis, die soeke na ’n middeweg, wou volg. Hierdie filosowe het die Bybelse tekste en teologiese oorwegings in eenvoudige en verbeeldingryke taal gestel, wat meer letterlik, tegnies en tog tegelyk subtiel deur filosofie tot uitdrukking gebring sou kon word. Dit was volgens daardie snit geleerdes moontlik om Aristoteles nie sonder meer te vergoeilik in teologie nie. Dit was moontlik om steeds sowel ’n magister in lettere as ’n magister in teologie te wees sonder om Aristoteles aan die teologie te verkneg of om teologie in Aristotelianisme te laat opgaan. Die meerderheid verdienstelike filosowe en teoloë in die skolastiese opvolgperiodes was gesny uit laasgenoemde hout. Hoewel elkeen ’n eie verantwoording ten opsigte van die Aristoteliese aanspraak sou moes formuleer, het hulle gemeen gehad dat hulle met sowel Aristoteles se volledige (oorleefde) en nou vertaalde korpus in Latyn as met Lombardus se Sententiae besig wou wees, met behulp van sowel die voorgraadse trivium en quadrivium as die logica vetus en logica novus. Wat wel onvermydelik was, is dat dit van hier af nie langer moontlik sou wees om die eenheidsdiskoers van filosofie as “algemene geleerdheid”, wat vir eeue die matriks vir intellektuele onderrig was, te handhaaf nie. Teologie is nou vir eens en altyd van filosofie geskei. By teologiefakulteite was daar mense wat niks van Aristoteles wou weet nie – en daar was mense wat alles van Aristoteles wou weet. By letterefakulteite was daar mense wat van niks anders as Aristoteles iets wou weet nie – en daar was mense wat soepel genoeg was om Aristoteles met betrekking tot teologiese implikasies te interpreteer. Van hier af is teologie en filosofie twee afsonderlike, aanduibare dissiplines, wat voorgestel kan word met ’n Venn-diagram wat die twee geslote sirkels wel oor mekaar konstrueer. Ons vind die Middeleeuse denkers vanaf die vroegskolastiek voortaan op een van drie plekke: in die sirkel van teologie, in die sirkel van filosofie, of in die snyding tussen teologie en filosofie. Dit word van hierdie stadium af onafwendbaar om na Middeleeuse denkers te verwys met betrekking tot die plek rondom hierdie snyding: Sommige was filosowe, sommige was teoloë, maar by verre die meeste Middeleeuse denkers hierna sou met die dubbeldoor aangedui moes word, naamlik filosoof-teoloog.

17 Sien Avempace (1963), asook Burnett (2005:370–404), Copleston (1993:186–200), Daniel (1979:1–80), Fakhry (1970:1–90), Goodman (1996:294–312), Hamid (2006:172–3), Montada (2005:155–79), Peters (1968:120–55), Walzer (1967:667–70) en Ziai (2005:405–25). Avempace was die eerste Muslim-filosoof vanuit Spanje, hoewel Avicebron (1021–1058), ’n Jood, die eerste Arabiese denker vanuit die Iberiese skiereiland was. Vanaf Avempace sentreer die intellektuele uitset van Islam nie langer rondom Bagdad nie, maar rondom Spanje, grootliks vanuit die kalifaat van Córdoba. Nadat Islam die skiereiland in 710 die eerste keer met sukses kon oorsteek en Spanje onder Muslim-beheer kon bring – wat eers in 1492 beëindig sou word met die Christendom se politieke herwinning van Spanje – was Spanje die mees westelike buitepos van die groeiende Islamitiese ryk. Die Muslims in Spanje is aanvanklik as ondergeskiktes en veraf buitelanders gereken, deur juis diegene na aan die hart van die agste-eeuse renaissance van Islam, in Bagdad self. Met verloop van tyd het hierdie Westerse Muslims – ook Andalusiërs genoem na die Arabiese benaming van Muslim-Spanje, al-Andalus – egter ’n eie identiteit en politieke outonomie bereik, wat ook in hulle onafhanklike intellektuele uitsette sigbaar geword het. Avempace was veral geïnteresseerd in die “administrasie van kennis”, oftewel in die wyse waarop sillogismes tegnies tot uitdrukking gebring word binne die verskillende lettere. Hy begin daarom met ’n klassifikasie of prioritisering van die vyf sillogistiese wetenskappe (wat hy die “filosofiese lettere” noem), vanuit “filosofie as matriks”. Filosofie is vir Avempace “matriks”, in die sin dat dit die vak is wat alle synsvorme omsluit, in soverre dit wel met sekerheid daardie synsvorme kán ontsluit. Daarvoor geld twee voorwaardes: die sekerheid van kennis en die universaliteit van skopus. Hierdie twee voorwaardes bepaal die orde van die vyf sillogistiese wetenskappe: metafisika, fisika, praktiese filosofie, wiskunde en logika. Metafisika is gerig op daardie synsvorme wat die eerste oorsake van alle dinge is, en wat nie liggaamlik óf nieliggaamlik is nie. Fisika (of natuurwetenskap) is gerig op natuurlike synsvorme, waarvan die bestaan nie van menslike wil of nadenke afhanklik is nie. Praktiese filosofie, wat Avempace “wetenskap van die wil” noem, is gerig op synsvorme wat geproduseer word deur menslike wil, nadenke en keuse. Avempave verstaan wiskunde baie wyd: wiskunde is gerig op synsvorme wat vanuit die materiële basis daarvan geabstraheer is, en word onderverdeel in algebra, meetkunde, optiek (gebaseer op Alhacen se werk), astronomie (gebaseer op Albumasar se werk), musiek, die wetenskap van massabepaling en laastens ingenieurswese, wat Avempace die “studie van instrumente” noem. Logika is die vyfde en laaste sillogistiese wetenskap en fokus op die eienskappe wat synsvorme in die menslike verstand aanneem. Avempace benadruk dat logika nie slegs ’n instrument is, wat dus tot die studie van die instrumente beperk moet word nie, maar dat logika ook ’n filosofies-sillogistiese dissipline is, juis omdat die eienskappe wat synsvorme in die menslike verstand aanneem, rééds bestaan. Logika is in daardie sin sowel (deel van) filosofie as ’n instrument van filosofie. Al vyf hierdie sillogistiese wetenskappe het as grootste gemene deler die apodiktiese sillogisme: die absoluut sekere waarheid, gegrond op die rasionele en deduktiewe gevolgtrekking vanuit twee of meer proposisies, universeel bo enige twyfel geldig en logies-noodsaaklik in konsekwensie, byvoorbeeld 2+2=4 of cogito ergo sum. Nie alle wetenskappe wat sillogismes implementeer, voldoen aan hierdie streng apodiktiese kriterium nie en kan daarom nie as deel van “filosofie” beskou word nie. Avempace dui vier sodanige “niefilosofiese lettere” aan: Dialektiek maak volgens Avempace staat op opinie alleen, en bevestig of negeer ’n bepaalde saak deur metodes wat ’n beroep op algemene aanvaarbaarheid doen. Sofistrie, weer, bewimpel die waarheid deur argumentvoering wat op wanvoorstellinge gebaseer is; dit laat die waarheid leuenagtig voorkom, en die leuen as waar. Hy volg ook die bestaande Grieks-Arabiese kommentaar oor Aristoteles, wat sowel retoriek as poësie, as die niefilosofiese lettere aangedui het. Tog kan die klassifikasie van die lettere nie daarby eindig nie. Daar is ook nog die praktiese lettere (wat dus onderskei moet word van praktiese filosofie as een van die vyf filosofiese lettere), wat onder andere dissiplines soos geneeskunde en landbouwetenskap insluit. Hierdie praktiese lettere maak wel gebruik van sillogismes, maar pas dit toe slegs met die oog op bepaalde praktyke, en kan in die finale weergawes daarvan nie op sillogismes gebaseer word nie. Daarteenoor maak die reëls van optiek en ingenieurswese wel voorsiening daarvoor dat dit streng op sillogismes gebaseer móét word. Om op te som: Avempace onderskei tussen lettere wat streng op sillogismes gebaseer is en lettere wat nie streng daarop gebaseer is nie. Die filosofiese lettere of sillogistiese wetenskappe is metafisika, fisika, praktiese filosofie, wiskunde en logika. Die niefilosofiese lettere is dialektiek, sofistrie, retoriek en poësie, met die praktiese lettere as ’n laaste byvoeging tot die niefilosofiese dissiplines. Hugo het tot hierdie besonderse en tegniese verwerking van die sewe liberale lettere volledig toegang gehad en dit in sy unieke wetenskapsbegrip geïmplementeer.

18 Juis gedagtig aan die vroegskolastiese onderskeiding van teologie en filosofie word die teologiese aspekte in Didascalicon nie hier hanteer nie. Die volgende teologiese oorwegings kan egter vermeld word: Hugo handel wel afsonderlik oor Bybelse interpretasie, of, in moderne terme, Bybelse hermeneutiek. Volgens Hugo (1961:5.2) kan die Bybel letterlik (waarmee hy bedoel “histories”) of allegories, of tropologies (in terme van morele aanwysing) geïnterpreteer word. Nie alleen het woorde in die Bybel op bogenoemde sleutels betrekking nie; ook dit waarna woorde verwys, het betrekking en betekenis. ’n In 1 Petrus 5:8 word byvoorbeeld die woord leeu gebruik, wat volgens Hugo daadwerklik “leeu” beteken, maar ook “die duiwel”. Didascalicon plaas die studie of interpretasie van die Skrifte binne die groter konteks van intellektuele ondersoek, terwyl De Sacramentis christiane fidei die teologiese basis voorsien vir die verstaan van die tekste as sodanig. Belangrik vir Hugo, juis in terme van hierdie teologiese basis (1961:I.3.6–9) wat De Sacramentis voorsien, kan God nie anders as vanuit die rede en die openbaring geken word nie. God is in terme van die begrensdheid van die rede nie volledig kenbaar óf volledig onkenbaar nie (1961:I.3.2). Dat God vanuit die rede en die openbaring geken kan word, aanvaar Hugo as ’n gegewe; hy kwalifiseer (1961:I.3.3) egter dat sowel die rede as die openbaring deur uitwendige en inwendige aanwysers van God se bestaan gekenmerk word. Ons kan God sodoende ken deur na te dink oor die “uitwendige skepsels” (1961:I.3.10) of “inwendig” oor die eie verstand te besin (1961:I.3.6–9, I.2.13); en net so kan God geken word deur uitwendige onderrig of inwendige inspirasie (1961:I.3.3). Hierdie wyses waarop God geken kan word, vind eenheid of algemeenheid daarin dat dit die een God is wat Godself kenbaar maak, deur elkeen afsonderlik en almal tesame te ken – en dat hierdie Een-almal, oftewel universele Een teenoor partikuliere kosmos, juis vir Hugo ’n aanduiding is van die wyse waarop filosofie, as nadenke oor die Een self, ’n plek behoort te vind binne die groter konteks van geloof (Schütz 1967:286–304; Gorman 2006:322; Hofmeier 1964:11). Daarvanuit beskryf Hugo die Goddelike attribute as mag, wil (wat vir hom “die goeie” beteken) en wysheid (1961:I.2.6, I.3.29) en op geen stadium ag hy dit nodig om hierdie attribute binne ’n enkelbegrip te assimileer of tot ’n enkele wesensattribuut te reduseer nie.

19 Richard van Saint-Viktor was ’n Skot wat die klooster van Hugo te Saint-Viktor buite Parys waarskynlik in die middel 1140’s betree het, na Hugo se afsterwe in 1141. Hy het rondom 1158 onderhoof van die klooster geword en hoofmonnik in 1162. Hy was Hugo se nougesette intellektuele opvolger, tot so ’n mate dat sy gangbare monnikenaam, St Victoris, ontleen is aan die klooster: In die Middeleeuse navorsing staan Hugo van Saint-Viktor normaalweg net as Hugo bekend, en Richard van Saint-Viktor bloot as St Victoris oftewel St Viktor. Hierdie sobriquet spreek boekdele van St Viktor se vermoë om Hugo se nalatenskap te bestendig en uit te bou. Hy neem Hugo se drie hermeneutiese sleutels vir Skrifhantering – as letterlik (histories), allegories en tropologies – oor en bestendig dit in ’n sistematiese Christelike wysheidsleer waarin spekulatiewe filosofie steeds as noodsaaklik geag word, maar – eg vroegskolasties – die onderskeid met teologie voortdurend en pertinent benadruk word. St Viktor is buite die nisnavorsing ondergekommentarieerd. Die enigste klassieke inleidingswerke wat St Viktor pertinent bespreek het, was Copleston (1993:175–82) en Grabmann (1957:309–18). Palmén (2014) verskaf die mees onlangse uitset vanuit die nisnavorsing. Sien die primêre tekste van St Viktor (1855; 1958; 1979) vir die onderstaande ontleding en byeenbring van die volgende sekondêre tekste: Andres (1921:189–200); Aris (1996:3–24); Colker (1962:181–227); Copleston (1993:175–82); DiLorenzo (1982:77–96); Emery (2006:588–94); Grabmann (1957:309–18); Palmén (2014:1–12) en Zinn (1977:190–214). St Viktor is ’n belangrike figuur in Middeleeuse filosofie, op grond van die omvang en inhoud van sy sesdelige De Trinitate (St Viktor 1958), maar ook as ’n filosoof wat nadruk op ’n kontemplatiewe lewe geplaas het, in veral twee werke: Benjamin maior (wat die aanvanklike titel Die Mistiese Ark gedra het) en Benjamin minor (wat die aanvanklike titel Die Twaalf Patriarge gedra het). Middeleeuse filosofie is die klooster te Saint-Viktor baie verskuldig: Vandat Champeaux daar ’n laaste heenkome gevind het, was die klooster aan die buitewyke van Parys aktief en invloedryk werksaam in die Middeleeuse intellektuele praktyke. Haar invloed sou egter onder die toenemende dominansie van die teologiese fakulteite by die opkomende universiteite taan.

20 Die twee ander metodologiese probleme in hierdie deeldissipline het te make met die arbitrêre datering en interne periodisering van die Middeleeue, asook die probleem van ’n latente Oriëntalisme in Middeleeuse filosofie (sien Beukes 2019a, 2019b).

21 Natuurlik is dit nie moontlik om elke noemenswaardige denker uit die Middeleeue in elke inleidingswerk, redaksiewerk of bloemlesing tereg te laat kom nie. Wat wel bevraagteken behoort te word, is dat dit dieselfde denkers is wat met reëlmaat aan bod gestel word – en dat dit dieselfde denkers is wat met reëlmaat weggehou of onderkommentarieer word. Figure soos Augustinus, Boethius, Abelardus, Anselmus, Aquinas, Duns Skotus en Ockham beskik oor ’n sekondêre literatuur wat in ’n verskeidenheid van tale reeds onoorsigtelik is. Waarom hierdie gekanoniseerde denkers steeds en met oordrewe klem in inleidingswerke en bloemlesings aan die orde gebring word, val die kritiese leser tereg op as onbillik teenoor die historiese digtheid en omvattendheid van die Middeleeuse epog self. 

22 Die volgende Middeleeuse denkers, om weer die skrywer se eie deeldissipline as voorbeeld te gebruik, staan “op die marges van die spesialisnavorsing” en is “ondergekommentarieerd in die vaknavorsing” – sommige van hierdie denkers beskik oor ’n niskompartement waarin hulle geïsoleerd bestudeer word, terwyl sommige van hulle steeds nie selfs binne ’n enkele of bepaalde nis of spesialisruimte bestudeer word nie; die Arabiese (en Joodse) denkers is, op enkele uitsonderings na (veral met verwysing na Avicenna, Averroes en Maimonides) in elk geval gemarginaliseerd in die groter dissipline: Alcuin (730–804); Damianus (1007–1072); Champeaux (ca. 1070–1121); Héloïse (ca. 1100–1164); Adelardus (ca. 1080 – ca. 1152); Gilbertius (1085–1154); Venerabilis (ca. 1092–1156); Hugo (1097–1141); Hildegard (1098–1179); Helias (ca. 1100 – ca. 1166); St Viktor (d. 1173); Salisbury (ca. 1115–1180); Gundissalinus (ca. 1110–1190); Lille (d. 1203); Auxerre (ca. 1140–1231); Filippus (Cancellarius Parisiensis) (1165–1236); Hales (ca. 1185–1245); Auvergne (ca. 1180–1249); Rochelle (ca. 1190–1245); Sherwood (ca. 1200 – ca. 1271); Fishacre (ca. 1205–1248); Mechtild (ca. 1207 – ca. 1282); Rufus (fl. 1231–1256); Arnaud (fl. 1260); Maricourt (fl. 1267); Hispanus (fl. 1267); Kilwardby (ca. 1215–1279); Hadewijch van Antwerpen (fl. 1240); Straßburg (ca. 1220–1277); Peckham (ca. 1230–1292); Boethius van Dacia (fl. 1270–1280); Ware (fl. 1290); Metz (fl. 1300); Erfurt (fl. 1300); Martinus van Dacia (d. 1304); Petrus van Auvergne (d. 1304); Quidort (ca. 1255–1306); Marston (ca. 1235 – ca. 1303); Arnaldus (1238–1311); Sigerius (ca. 1240 – ca. 1282); Aquasparta (ca. 1240–1302); Gilius van Rome (1243–1316); Petrus Olivius (ca. 1248–1298); Middleton (ca. 1249–1302); Godefridus de Fontibus (ca. 1250 – ca. 1307); Meister Dietrich (ca. 1250 – ca. 1310); Marguerite Porete (ca. 1250–1310); Sutton (ca. 1250 – ca. 1315); Natalis (1250–1323); Viterbo (ca. 1255–1307); Faversham (ca. 1260–1306); Vitalis (ca. 1260–1327); Wilton (fl. ca. 1312); Gonsalvo (d. 1313); Harclay (ca. 1270–1317); Brito (ca. 1270–1320); Durandus (1270–1334); Burley (1274–1344); Alnwick (ca. 1275–1333); Aureolus (1280–1322); Crathorn (fl. 1330); Massa (d. 1337); Terrena (d. 1342); Campsall (ca. 1280 – ca. 1350); Chatton (ca. 1285–1343); Reading (ca. 1285–1346); Jandun (1285–1328); De Mayronis (1288–1328); Gersonides (1288–1344); Swineshead (fl. 1340–1350); Marchia (ca. 1290 – ca. 1344); Baconthorpe (ca. 1290–1345); Mirecourt (fl. ca. 1345); Bradwardine (1295–1349); Holcot (ca. 1290–1349); Buridan (ca. 1295–1361); Ceffons (fl. ca. 1349); Brinkley (fl. 1350–1373); Autrecourt (ca. 1300 – ca. 1350); Halifax (ca. 1300 – ca. 1350); Caracciolo (d. 1351); Rimini (ca. 1300–1358); Fitzralph (ca. 1300–1360); Moosburg (ca. 1300–1361); Wodeham (d. 1358); Kilvington (1302–1361); Dumbleton (ca. 1310 – ca. 1349); Strode (fl. ca. 1360–1387); Heytesbury (ca. 1313–1372); Saxon (ca. 1316–1390); Oresme (ca. 1320–1382); Inghen (ca. 1340–1396); Phillarges (ca. 1340–1410); Crescas (ca. 1340–1396); Blasius (1347–1416); Katharina van Siena (1347–1380); Aliacensis (ca. 1350–1420); Gersonius (1363–1429); Venetus (1369–1429); Hieronymus Pragensis (1370–1416); Capreolus (1380–1444); Pergola (d. 1455); Gaetano (1387–1465); Van de Velde (1395–1460); Biel (1408–1495); Van Leeuwen (1402–1471) en De Rivo (1420–1500). Dit is nogal ’n hele paar denkers, maar aan elkeen van hulle gee net ’n paar mense wêreldwyd aandag, terwyl niemand regtig weet wat daardie paar mense per denker of tema doen nie – uitgeslote die paar ander mense wat dieselfde per tema doen as wat hulle doen. 

23 Vergelyk byvoorbeeld die onlangse resepsiepolemiek tussen twee Salisbury-nisnavorsers, Irene O’Daly (2018) en Cary Nederman (2005): By al die winste van O’Daly se monografie, in terme van die kwaliteit van die navorsing en die argumentatiewe oorspronklikheid daarin aanwesig, moet die oordrewe vakkundig-polemiese trant daarvan bevraagteken word. O’Daly vind dit gepas om die standpunte en lesings van Nederman, ongetwyfeld die mees bedrewe Salisbury-frontnavorser van die afgelope twee dekades, wat ook die laaste monografie oor Salisbury in 2005 die lig laat sien het, herhaaldelik te bevraagteken, te kritiseer en te polemiseer. Natuurlik is juis die frontnavorser in enige veld nie immuun teen kritiek nie en rus die onus juis op die frontnavorser om op geldige en gevolgryke kritiek te antwoord ten einde voor in die veld te bly – maar meer nog, ter wille van die akademiese integriteit van die veld self. Gegewe die diskursiewe digtheid en historiese diepte van Middeleeuse filosofie gebeur dit ook gereeld dat sodanige frontnavorsers op ’n bepaalde punt om die wysiging van ’n lesing of ’n standpunt gevra word. Dit gebeur ewe gereeld dat frontnavorsers daardie versoek met erns neem en ’n vertrekpunt of ’n formulering wysig en selfs moet wysig. Dit gebeur egter nie dat ’n frontnavorser in ’n bepaalde werk herhaaldelik tot orde geroep en selfs gekasty word oor bepaalde standpunte nie. Die frontnavorser het immers nie tot voor in die veld gevorder op grond van herhaalde misplaasthede nie. Tog vind O’Daly dit aanneemlik om Nederman herhaaldelik in die hoofteks aan te val, en nie uitsluitlik in voetnotas of eindnotas om opheldering te versoek, soos wat in terme van goeie etiket in Middeleeuse navorsing die geval sou wees nie. O’Daly opponeer Nederman se klem op die Aristoteliese invloed op die Salisbury-korpus herhaaldelik, en uiteindelik voorspelbaar, ten einde haar eie tese van ’n skerper Romeinse invloed te demonstreer en te legitimeer (byvoorbeeld O’Daly 2018:20, 115, 151). Die probleem is dat nie enige van die voorstelle waarmee O’Daly na vore kom in terme van ’n “Romeins-geïnspireerde Salisbury” die wesenlike grondslae van ’n “Aristotelies-geïnspireerde Salisbury” verander nie. Dit is ’n Salisbury met ’n ietwat ander gelaat en ’n rooi in stede van ’n pers mantel – maar diskursief is dit dieselfde Salisbury. O’Daly verruim ongetwyfeld die Saresberiensis-navorsing met haar aksent op die Romeinse bronne. Sy maak ’n sterk saak daarvoor uit dat Salisbury nie eensydig Aristotelies verstaan kan word nie – met die implikasie dat indien dit vir Salisbury geld, daar ook ander 12de- en 13de-eeuse denkers is wat tradisioneel as uit en uit Aristotelies verstaan is, terwyl die Romeinse invloed ook moontlik by hulle verbygelees is. Ongetwyfeld is O’Daly se boek in daardie sin ’n waardevolle toevoeging tot die Saresberiensis-skat. Stilisties en in terme van vak-etiket is die boek egter ook ’n waarskuwing dat geen navorser in Middeleeuse filosofie, of in enige ander vak, daarop geregtig is om die eie tese of eie standpunt so ernstig, en met beduidende onverdraagsaamheid, op te neem nie. 

24 Erkenning word verleen aan en dank word betuig teenoor die eerste anonieme keurder, wat ’n aksentplasing in hierdie verband onder die skrywer se aandag gebring het.

25 So anachronisties en selfs naïef as wat die voorafgaande afdelings en onderstaande stellings binne ’n eietydse gesprek oor die toekoms van die universiteitswese mag aandoen, kan nie ontken word dat universiteite hedendaags in komplekse korporatiewe entiteite ontwikkel het waarin die wysheidsideaal grootliks gesneuwel het nie – waarvan hiperspesialisasie bloot nóg ’n simptoom is. Die verlies aan hierdie ideaal is natuurlik net een faset waaroor opnuut verantwoording gedoen moet word, terwyl ander tydgenootlike fasette rondom bekostigbaarheid, gelyke toegang, die probleem van massafisering en die invloed van tegnologie nie minder belangrik is nie; maar dit is ook nie méér belangrik as eersgenoemde nie. Dank word betuig teenoor die tweede anonieme keurder, wat die noodsaak aan die erkenning van die kompleksiteit van sodanige bedryfspraktiese oorwegings in die keurdersverslag uitgelig het. Inderdaad is ’n voortgaande debat oor die verhouding tussen beide die ideëhistoriese en institusionele momente wat opgesluit is in die idee van die universiteit, noodsaaklik.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post <i>Omnium expetendorum prima est sapientia</i>: Hugo van Saint-Viktor (1097–1141) en die probleem van hiperspesialisasie in die eietydse wetenskapsbegrip appeared first on LitNet.

Vonnisbespreking: Deliktuele vergoeding weens verlies (“bereavement”) as gevolg van ’n sterfgeval in die familie

$
0
0

Vonnisbespreking: Deliktuele vergoeding weens verlies (“bereavement”) as gevolg van ’n sterfgeval in die familie
RK v Minister of Basic Education [2019] ZASCA 192 (18 Desember 2019)

Johann Neethling, Departement Privaatreg, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 17(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Abstract

Delictual compensation for bereavement as a result of the death of a family member

In this case the core issue was whether mere emotional shock, bereavement or grief as a result of the death of a family member can ground a delictual cause of action. At common law this can be the case only if the shock or grief caused a recognisable psychological lesion (psychiatric injury or psychological disturbance), the existence of which should, as a rule, be proved by supporting psychiatric evidence. A clear deviation from the common law took place with regard to the Life Esidimeni tragedy when the former DCJ of the Constitutional Court, Dikgang Moseneke, awarded constitutional bereavement damages to each of the families involved for the death of a mentally ill family member who had died as a result of neglect by state officials. In RK S, a five-year-old boy fell into a pit latrine at his school and drowned. S’s parents and siblings instituted action in the High Court claiming damages inter alia for emotional shock and grief. Their claims were dismissed and they appealed to the Supreme Court of Appeal. The court held that in order to succeed with their claims, there was no need to develop the common law to recognise an independent claim for grief and bereavement, as their claims could be accommodated within the existing law (parr. 40–4). The court found that it was clear from the evidence that S’s death had caused each of the plaintiffs to suffer emotional shock and trauma which embrace the psychiatric injuries suffered by them (that is, their post-traumatic stress and depressive disorder), and with which their extended period of grief and sense of bereavement was associated (parr. 45–7). The court awarded damages to each plaintiff in respect of the claim for emotional trauma and shock, which included allowance for their grief and bereavement (parr. 51 ff.). It is unfortunate that the court did not use the opportunity to recommend the development of the common law and recognise the causing of grief and bereavement as an independent delictual cause of action in appropriate cases, as is the position in a number of European systems.

Keywords: actionability; bereavement; constitutional damages; damages; death of next of kin; depression; emotional shock; grief; law of delict; legislation; Life Esidimeni-arbitration; post-traumatic stress disorder; psychiatric injury; psychological lesion

Trefwoorde: deliktereg; depressie; dood van naasbestaande; emosionele skok; gedingsvatbaarheid; grondwetlike vergoeding; psigiatriese besering; psigiese letsel; Life Esidimeni-arbitrasie; posttraumatiese stresverstoring; verdriet; verlies van naasbestaande; vergoeding; wetgewing

 

1. Inleiding

Dit behoef geen betoog nie dat die onnatuurlike sterfte van ’n familielid vir sy of haar naasbestaandes dikwels ernstige emosionele skok, geestelike pyn en lyding, verdriet of smart meebring. Indien die dood deur die onregmatige, nalatige of opsetlike optrede van ’n persoon veroorsaak is, ontstaan die vraag of die betrokke familielede ’n delikseis vir vergoeding van die persoonlikheidsnadeel wat die verlies (“bereavement”) teweeggebring het, tot hul beskikking teen die delikspleger het. Dit was die kernkwessie in RK en die doel van hierdie bespreking is dan ook om die afwysing van so ’n eis in casu van naderby te bekyk.

Nou is dit so dat die enigste persoonlikheidsnadeel wat in hierdie omstandighede tans in ons reg as gedingsvatbaar geag word, die emosionele skok is (sien hieroor Neethling 2000:1 e.v.; Ahmed en Steynberg 2015:181 e.v.; Neethling e.a. 2019:143–5; Neethling en Potgieter 2015:306–12; Van der Walt en Midgley 2016:135–6; Loubser en Midgley 2017:361–7) wat ’n familielid opgedoen het, en dan net as die skok ’n psigiese letsel (psigiatriese besering of psigologiese steuring) daarstel, wat omskryf kan word as enige herkenbare nadelige inwerking op die brein- en senustelsel van ’n persoon (vgl. Barnard v Santam Bpk 1999 1 SA 202 (HHA) 208–9; Road Accident Fund v Sauls 2002 2 SA 55 (HHA) 61; Media 24 Ltd v Grobler 2005 6 SA 328 (HHA) 347, 348; Bester v Commercial Union Versekerings­maatskappy van SA Bpk 1973 1 SA 769 (A) 775, 776). Of sodanige letsel bestaan, moet in die reël deur ondersteunende psigi­atriese getuienis bewys word (sien Barnard 216; Sauls 61).

’n Psigiese versteuring kan uiteraard op verskeie wyses opgedoen word, maar vir huidige doeleindes is die emosionele of senuskok wat weens die dood van ’n naasbestaande opgedoen word, van belang. Dit kan byvoorbeeld geskied deur die waarneming van ’n ontstellende gebeurtenis waarby die oorledene betrokke was (soos in Masiba v Constantia Insurance Co Ltd 1982 4 SA 333 (K) waar die broodwinner aan ’n beroerte oorlede is toe hy op ’n afstand gesien het hoe die verweerder se motor met syne bots); of in Mulder v South British Insurance Co Ltd 1957 2 SA 444 (W) waar die eiseres gesien het hoe haar klein seuntjie se kop deur die wiel van ’n bus vergruis is); of die bewuswording van die familielid se sterfte, soos deur van sy of haar dood te verneem (bv. Waring and Gillow Ltd v Sherborne 1904 TS 340 (gade); Layton and Layton v Wilcox and Higginson 1944 SR 48 (kind); Barnard (kind)). Let nietemin daarop dat die hof in Barnard 208–9 van mening is dat daar “ongetwyfeld veel te sê is vir die standpunt dat ‘senu­skok’ nie net ’n uitgediende benaming sonder enige spesifieke psigi­atriese betekenis is nie, maar ook misleidend kan wees, en dat die enigste tersaaklike vraag is of ’n eiser ’n herkenbare psigiese letsel opgedoen het” (sien ook Loubser en Midgley 2017:363).

Blote emosionele verdriet of smart (bv. weens die dood van ’n kind) word nie as ’n psigiatriese letsel geag nie, en is daarom nie gedingsvatbaar nie (sien Barnard 217; Sauls 61; Western Cape Department of Social Development v Barley 2019 3 SA 235 (HHA) par. 23; Hing v Road Accident Fund 2014 3 SA 350 (WKK) 361; sien verder Loubser en Midgley 2017:363). In Barley is ’n 22 weke oue dogtertjie weens versmoring dood toe sy by ’n dagsorgsentrum van ’n bed afgerol het terwyl sy aan die slaap was. Haar ouers stel ’n eis vir vergoeding in weens hul “psychiatric injuries in the form of severe depressive symptoms, anxiety, post-traumatic stress disorder and emotional disorder”. Die eis word egter van die hand gewys, omdat dit nie deur ondersteunende psigi­atriese getuienis bewys is nie. Appèlregter Dambuza (par. 23) verklaar dat “[t]he extent to which such grief endures, and the impact thereof on the physical and mental wellbeing of the plaintiff, are crucial in proving a damages claim. If the shock is only for a short period and does not have real impact (transient shock) on the health of the plaintiff, it is usually disregarded” (sien ook Potgieter e.a. 2012:110; Neethling 2019:777–8).

Hoe ook al, in Mbhele v MEC for Health for the Gauteng Province (355/2015) [2016] ZASCA 166 (18 November 2016) kom dit voor of daar ’n afwyking van die gemeenregtelike posisie was. Hier is ’n vrou aan ernstige trauma onderwerp toe sy na die stilgeboorte van haar baba gedwonge vir agt ure in ’n kraamsaal aangehou is en daarna ook gedwing is om haar baba in die lykshuis te identifiseer, waar sy flou geval het. Dit was duidelik vir die hof dat sy emosionele skok ondergaan het en dat sy ’n saak daarvoor uitgemaak het (par. 11): “[H]er behaviour months after the death of the baby shows that she had difficulty coping and that she still has not recovered completely. For all those reasons we are satisfied that a case was made for a claim for emotional shock.” Die hof staan vergoeding vir ernstige skok, smart en depressie toe sonder dat daar enige psigiatriese bewys van ’n psigiese letsel voorgelê is (sien ook Mukheibir en Mitchell 2019:14–6).

’n Duidelike afwyking van die status quo het voorgekom met betrekking tot die Life Esidimeni-tragedie, waar die voormalige adjunkhoofregter van die Konstitusionele Hof, Dikgang Moseneke, konstitusionele vergoeding weens die eisers se swaar verlies toegeken het aan elk van die betrokke families vir die dood van ’n geestelik-versteurde familielid wat as gevolg van die nalatigheid van staatsamptenare gesterf het (sien Life Esidimeni Arbitration Award by http://www.saflii.org/images/LifeEsidimeniArbitrationAward.pdf; sien ook Neethling e.a. 2019:44 vn. 511; Mukheibir en Mitchell 2019:17–8).

Dit bring ons by die beslissing in RK.

 

2. RK v Minister of Basic Education

2.1 Feite

Hier het ’n seuntjie (S), wat slegs vyf jaar oud was, ’n hoogs ontstellende en onmenslike dood ondergaan toe hy in ’n putlatrine by sy skool geval en in die rioolslyk en smerige gemors verdrink het. Sy ouers, suster en broer stel ’n eis vir vergoeding in die Hooggeregshof teen die verweerders in vir onder andere emosionele skok en smart. Die eis slaag gedeeltelik, maar word grotendeels verwerp, en die familie beroep hul op die Hoogste Hof van Appèl.

Appèlregter Leach (parr. 9–14) skets ’n skrikwekkende beeld van die omstandighede wat tot S se dood gelei het. Dit blyk dat die puttoilette wat die skool aan die leerders voorsien het, in ’n ontsettende en afstootlike toestand was. Die skool het jare lank klagtes daaroor aan die provinsiale administrasie gerig met die versoek om the toilette te verbeter, maar geen reaksie gekry nie. Ten einde laas, in ’n poging om die probleem op te los, is ’n plaaslike nutsman vyf jaar tevore aangestel om ’n eenvoudige platform met ’n sitplek te ontwerp en oor die putte te installeer. Dit het egter nie lank gehou nie en as gevolg van verroesting en normale slytasie was die toilette weer in ’n ellendige toestand. Alhoewel dit so min as R500 per sitplek sou gekos het om struktureel-behoorlike toilette te laat bou, het die onderwysowerhede in gebreke gebly om op te tree. Die skool is toe op ’n lys geplaas wat geskeduleer was om sanitêre-infrastruktuur-bystand te kry, maar ongelukkig het geen werk ’n aanvang geneem voordat die tragedie met S maande later plaasgevind het nie.

Dit blyk dat S op die betrokke dag sonder toesig na die toilet gegaan het om homself te ontlas toe die sitplek ineengestort en hy in die put geval het. Later, toe hy nie gevind kon word nie, het sy moeder haar in paniek na die skool gehaas en sy liggaam in die toilet gevind waar hy in die smerige drek verdrink en met sy hand uitgestrek gelê het. Die skool het geweier dat sy moeder sy liggaam verwyder, en dit is ure lank, terwyl sy vader naby die toneel gesit het, daar in die menslike ontlasting gelaat totdat nooddienste dit verwyder het.

Dit is begryplik dat die verskriklike omstandighede van S se dood by sy ouers gespook het. Sy moeder het flou geval toe sy S se liggaam in die put sien; albei ouers het erge nagmerries ervaar, is gediagnoseer met posttraumatiese stresverstoring, het vir jare aan slaaploosheid gely en moes psigiatriese berading kry. S se ouer suster en broer is ook swaar getref deur die tragiese voorval. Sy suster, wat ook die lyk in die put gesien het, is op dieselfde wyse as haar moeder geaffekteer en moes ook psigiatriese berading kry. Insgelyks het sy broer simptome van posttraumatiese stresverstoring en swaar verlies openbaar. Dieselfde geld die ander drie jonger kinders.

2.2 Eise

Die eise kan in twee verdeel word (sien parr. 15 e.v.). Die eerste eis is vir vergoeding weens die emosionele skok wat die eisers opgedoen het (gebaseer op die gemenereg soos hier bo uiteengesit); en tweedens eis hulle vergoeding weens die swaar verlies en smart wat hulle moes ly (gebaseer op ’n ontwikkeling van die gemenereg in hierdie verband). Die ander eise, soos vir toekomstige mediese uitgawes en begrafniskoste, word vir doeleindes van hierdie bespreking daargelaat. Wat die Hooggeregshof betref, het die verweerders in die voorverhoorkonferensie toegegee dat die eisers ernstige emosionele skok en trauma ervaar het wat deur kliniese sielkundiges bevestig is en dat hulle verdere berading benodig. Die verweerders het vervolgens die meriete van die deliktuele eis erken en ’n aanbod om skikking gemaak wat egter nie aanvaar is nie. Die verhoor het dus voortgegaan.

Op die eerste dag het die verweerder weer die meriete erken en aanvaar dat hul nalatigheid S se dood veroorsaak het. Hierop laat appèlregter Leach (par. 19) hom soos volg uit:

In the light of this concession and the circumstances surrounding S’s death, if ever a case called out for settlement it was this one. For some reason, however, the respondents did not settle and the trial proceeded, undoubtedly at huge cost to the State. This really ought to have been avoided and the funds better employed in national interest eg by improving sanitation systems at rural schools.

Hoe ook al, nieteenstaande die verweerders se toegewing oor die meriete en die daaropvolgende getuienis van albei eisers en die deskundige psigoloog oor hul geestelike lyding, het die hof a quo – “it is somewhat startling to say the least”, in regter Leach (par. 20) se woorde – die eis vir emosionele trauma en skok van die hand gewys. Die hof het ook die eis vir smart afgewys.

2.3 Beslissing

Appèlregter Leach behandel die twee eisgronde seriatim. Eerstens: Wat die eis vir emosionele skok betref, wys hy (parr. 24–7) daarop dat alhoewel die howe aanvanklik huiwerig was om hierdie tipe eise te erken weens die vrees dat dit tot ’n menigvuldigheid van aksies aanleiding kon gee, het die beslissing in Bester v Commercial Union Versekeringsmaatskappy van SA Bpk 1973 1 SA 769 (A) onomwonde erkenning daaraan verleen dat persoonlikheidsnadeel wat uit die onregmatige en skuldige veroorsaking van ’n psigiatriese besering of emosionele skok resulteer, sonder dat daar van ’n fisieke besering sprake is, in beginsel die aksie weens pyn en lyding fundeer; en in Barnard bevestig die hof dat aanspreeklikheid ook kan volg in sogenaamde hoorsê-gevalle waar ’n persoon emosionele skok opgedoen het deur van iemand se dood te verneem. Hier speel die verhouding tussen die eiser en die slagoffer ’n belangrike rol, en die primêre vraag is of die eiser ’n herkenbare psigiese letsel ervaar het. Hierdie benadering is ook gevolg in Sauls, waar ’n persoon ’n ontstellende gebeurtenis waargeneem het. Hier verklaar appèlregter Olivier (parr. 13, 17):

It must be accepted that in order to be successful a plaintiff ... must prove, not mere nervous shock or trauma, but that she or he had sustained a detectable psychiatric injury. That this must be so is, in my view, a necessary and reasonable limitation to a plaintiff's claim ... I can find no general, “public policy” limitation to the claim of a plaintiff, other than a correct and careful application of the well-known requirements of delictual liability and of the onus of proof.

Na ’n oorsig (parr. 28–31) van die regsposisie aangaande aanspreeklikheid weens emosionele skok in Engeland, gevolg deur die posisie in ander “common law”-lande soos Australië, Nieu-Seeland en Kanada wat die Engelse reg in ’n groot mate weerspieël, kom appèlregter Leach (par. 31) tot die slotsom dat ’n eiser vergoeding weens emosionele skok kan eis net waar dit ’n herkenbare psigiatriese besering veroorsaak het.

Soos die hof uitwys (par. 32), was dit presies die geval in RK, aangesien, soos duidelik uit die bespreking hier bo blyk, die eisers as gevolg van die emosionele skok wat hulle weens S se dood gely het, gediagnoseer is met posttraumatiese stresverstoring waarvoor hulle psigiatriese berading moes kry. Daarom het die hof geen probleem om die regsbasis van die eisers se eis vir emosionele skok te erken nie. “It is a claim long recognised in this country and supported by the other common law jurisdictions” (sien ook die bespreking hier bo, par. 1).

Dit bring appèlregter Leach by die tweede eis (parr. 33–5), naamlik vergoeding weens die swaar verlies en smart wat die eisers moes ondergaan, maar wat nie met ’n herkenbare psigiese letsel gepaard gegaan het nie. Ten aanvang toon hy aan dat nie een van die “common law”-jurisdiksies hier bo vermeld erkenning aan sodanige eis verleen het nie. In byvoorbeeld Engeland verklaar Lord Oliver in Alcock v Chief Constable of South Yorkshire [1992] 1 AC 310; [1991] 4 All ER 907 (HL) 931a-b:

Grief, sorrow, depravation and the necessity for caring for loved ones who have suffered injury or misfortune must, I think, be considered as ordinarily and inevitable incidents of life which, regardless of individual susceptibilities, must be sustained without compensation ... but to extend liability to cover injury in such cases would be to extend the law in a direction for which there is no pressing policy need and in which there is no logical stopping point.

Soos reeds hier bo vermeld (par. 1), is dit ook die benadering in ons reg. Nietemin wys regter Leach (parr. 36–7) daarop dat daar sedert 1982 in Engeland statutêr voorsiening gemaak word daarvoor dat sekere naasbestaandes vergoeding weens “bereavement” in die geval van noodlottige ongelukke kan eis. Insgelyks word in Australië en Kanada statutêr vir soortgelyke eise voorsiening gemaak. Dit het tot op hede egter nog nie in Suid-Afrika gebeur nie en daarom geld die gemeenregtelike toedrag van sake steeds.

Die eisers het egter aangevoer (par. 38), op grond van Mbhele (sien hier bo, par. 1) waar die Hoogste Hof van Appèl vergoeding vir ernstige skok, smart en depressie toegestaan het sonder dat daar enige psigiatriese bewys van ’n psigiese letsel voorgelê is, dat die vereiste van ’n psigiese letsel laat vaar is, en dat die hof in RK ook hierdie benadering moet volg. Appèlregter Leach (par. 39) stem egter nie saam nie. Volgens hom was daar voldoende aanduidings dat die eiseres aan ’n psigiese ongesteldheid (depressie) gely het en ernstige emosionele skok opgedoen het wat aanduidend van ’n psigiese letsel is. Hierbenewens het die hof in Mbhele geensins verwys na die vorige beslissings van die Appèlhof dat blote emosionele verdriet of smart nie gedingsvatbaar is nie. Hy kom tot die volgende slotsom:

Without those cases and the ratio of their decisions having been debated and adjudicated, it cannot be said that they have been overruled by a simple passing comment relating to grief. The decision in Mbhele is therefore no authority for the proposition that our law has changed and that this court has recognised a claim for grief where there is no psychiatric lesion.

Die eisers voer voorts aan (par. 40) dat die gemenereg ontwikkel moet word in die lig van die gees, strekking en oogmerke van die Handves van Regte ten einde ’n eis vir swaar verlies en smart as gevolg van die dood van S te erken sonder dat dit met ’n psigiese letsel gepaard gegaan het, of om sogenaamde grondwetlike vergoeding vir hul smart en verlies toe te staan.

Wat eersgenoemde betref, is regter Leach (parr. 41–4) van oordeel dat daar geen noodsaaklikheid is om die gemenereg te ontwikkel ten einde ’n onafhanklike eis vir smart en swaar verlies te erken nie, aangesien albei eise in casu binne die bestaande deliktereg tuisgebring kan word. Aangesien dit die geval is, sal die toekenning van grondwetlike vergoeding nie as gepaste regshulp ingevolge artikel 38 van die Grondwet beskou word nie. (Sien ook parr. 57–63, waar die hof hoofsaaklik op Fose v Minister of Safety and Security 1997 3 SA 786 (CC) steun. Volgens die hof (par. 62) is die Life Esidimeni-arbitrasietoekenning van grondwetlike vergoeding (sien hier bo, par. 1) nie hier van toepassing nie, aangesien dit nie die bindende gesag van ’n regspresedent het nie en die feite aldaar boonop heeltemal van die feite in RK verskil; sien verder Neethling en Potgieter 2015:21 vn. 162.)

In die lig van die feite in RK kan die eisers se smart en gevoelens van verlies volgens die hof (parr. 45–8) in ag geneem word by die bepaling van hul vergoeding:

It is clear from all of this that the respondents admitted that S’s death had caused each of the appellants to suffer psychiatric injury with which their extended period of grief and sense of bereavement was associated. … [T]he evidence further corroborated that which the respondents had conceded. The psychologist ... explained that the symptoms of depression and post-traumatic stress disorder, suffered as a result of the emotional trauma the appellants had undergone, embraced the grief they had experienced. He explained that their feelings of grief and bereavement were psychological reactions to the significant emotional trauma they had undergone due to the shock caused by the circumstances surrounding S’s death and contributed to their psychiatric injuries. ... The appellants were therefore entitled to claim and recover damages ... for a pathological grief disorder forming part of their psychiatric injury.

Gevolglik is dit volgens die hof (par. 48) nie nodig om die gemenereg in casu verder te ontwikkel ten einde aan die eisers vergoeding toe te ken nie. Bygevolg is dit ook nie nodig om te beslis of die eisers geregtig sou wees op vergoeding vir verdriet as hulle nie ’n psigiatriese besering opgedoen het nie.

Wat die kwantum van vergoeding betref (sien parr. 51–7), bevind appèlregter Leach, in ag genome die emosionele skok, trauma, verdriet en verlies wat die eisers ervaar het, dat dit redelik sou wees om aan die ouers elk R350 000, aan die ouer broer en suster elk R200 000 en aan die drie minderjarige kinders elk R100 000 toe te ken.

 

3. Gevolgtrekking en aanbeveling

Die ratio decidendi van die beslissing in RK verdien instemming. Die hof het hom streng gehou by die gemeenregtelike reëling van aanspreeklikheid weens emosionele skok, naamlik dat emosionele skok gedingsvatbaar is slegs indien dit ’n psigiese letsel (psigiatriese besering of psigologiese steuring) veroorsaak wat in die reël deur ondersteunende psigi­atriese getuienis bewys moet word; en dat blote emosionele verdriet of smart (bv. weens die dood van ’n kind) nie as ’n psigiatriese letsel geag word en daarom nie gedingsvatbaar is nie. Nietemin het die hof aanvaar dat nie net die emosionele skok nie, maar ook die verdriet en swaar verlies weens die dood van S, psigiese letsels tot gevolg gehad het (posttraumatiese stresverstoring en depressie wat deur psigi­atriese getuienis bevestig is) wat deliktuele vergoeding geregverdig het. Daarom is dit begryplik dat dit nie nodig was om die gemenereg in casu te ontwikkel ten einde aan die eisers vergoeding toe te ken nie. Bygevolg was dit ook nie nodig om te beslis of die eisers geregtig sou gewees het op vergoeding vir verdriet as hulle nie ’n psigiatriese besering opgedoen het nie. Maar dit is tog jammer dat die hof nie sy weg oopgesien het om de lege ferenda obiter ’n mening uit te spreek oor dié tipe gevalle nie. Daar kan met redelike sekerheid voorspel word dat die howe in die toekoms te doen sal kry met gevalle waar daar wel swaar verlies en verdriet voorkom weens die dood van ’n familielid sonder dat daar regtens vir die moontlikheid van deliktuele vergoeding voorsiening gemaak word. Ons reg behoort dus ontwikkel te word om hierdie leemte te vul (sien ook Verheij 2004:406–8).

In hierdie verband moet vermeld word dat vele Europese regstelsels deliktuele vergoeding vir swaar verlies (“bereavement” of pretium affectionis) verskaf aan sekere verwante of ander persone wat ’n ferm verhouding of bande van toegeneentheid met ’n oorlede persoon gehad het (soos Frankryk, Switserland, België, Spanje, Griekeland en Italië – sien Verheij 2004:406; Neethling e.a. 2019:44). Onlangs het die wetgewer ook in Duitsland (2017 § 844 (3) BGB) en Nederland (2019 Wet Affectieschade: sien Mukheibir en Mitchell 2019:10–1) vir vergoeding weens swaar verlies voorsiening gemaak. Interessant genoeg word daar nou selfs in “common law”-lande soos Engeland, Australië en Kanada, waar eise vir “bereavement” nie gedingsvatbaar was nie, statutêr voorsiening gemaak daarvoor dat sekere naasbestaandes vergoeding weens “bereavement” in die geval van noodlottige ongelukke kan eis (sien RK parr. 36–7).

Hierdie beskerming wat in gevalle van swaar verlies in soveel Europese lande verleen word, bevestig die pad wat ons deliktereg moet volg. Dat daar ’n behoefte aan sodanige remedie in ons reg is, word duidelik aangetoon deur die Life Esidimeni-arbitrasie waar grondwetlike vergoeding, by gebrek aan die deliktuele aksie weens pyn en lyding, ingespan moes word om die betrokke families te vertroos vir hul swaar verlies weens die dood van ’n geestelik-versteurde familielid wat as gevolg van die nalatigheid van staatsamptenare gesterf het. Mukheibir en Mitchell (2019:28–30) beskou die deliktereg as die geskikte wyse om regshervorming teweeg te bring, terwyl Verheij 2004:406–8 hom nie daaroor uitspreek of die howe dan wel die wetgewer die aangewese voertuig moet wees nie. Daar word aan die hand gedoen dat die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie die aangeleentheid moet ondersoek en wetgewing moet voorstel ten einde die huidige leemte in ons reg aan te vul, soos onlangs in Nederland gebeur het (sien ook Neethling 2019:7778; en in die algemeen Neethling e.a. 2019:44–5).

 

Bibliografie

Ahmed, R. en L. Steynberg. 2015. Claims for “emotional shock” suffered by primary and secondary victims. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 78(2):181–99.

Loubser, M. en R. Midgley. 2017. The law of delict in South Africa. 3de uitgawe. Kaapstad: Oxford University Press.

Mukheibir, A. en G. Mitchell. 2019. The price of sadness: Comparison between the Netherlands and South Africa. Potchefstroomse Elektroniese Regsblad, 22:1–36.

Neethling, J. 2000. Deliktuele aanspreeklikheid weens die veroorsaking van psigiese letsels. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 1:1–11.

─. 2019. Liability of state for psychiatric injury of parents caused by death of baby at day-care centre. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 4:773–81.

Neethling, J. en J.M. Potgieter. 2015. Neethling-Potgieter-Visser deliktereg. 7de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Neethling, J., J.M. Potgieter en A. Roos. 2019. Neethling on personality rights. Durban: LexisNexis.

Potgieter, J.M., L. Steynberg en T.B. Floyd. 2012. Visser & Potgieter law of damages. 3de uitgawe. Claremont: Juta.

Van der Walt, J.C. en J.R. Midgley. 2016. Principles of delict. 4de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Verheij, A.J. 2004. Compensation of pretium affectionis – a constitutional necessity? Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 67(3):394–408.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Vonnisbespreking: Deliktuele vergoeding weens verlies (“bereavement”) as gevolg van ’n sterfgeval in die familie appeared first on LitNet.

Viewing all 796 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>