|
Opsomming
Dié artikel vorm deel van ’n groep ondersoeke na Bruinafrikaans (BA),1 almal met as hoofdoelstelling ’n bepaling en die beskrywing van die akoestiese kwaliteit van die vokale daarvan. In vorige ondersoeke is gewys op die sterk homogene aard van Bruinafrikaans. In hierdie ondersoek fokus ek op die brekende, oftewel verglydende, aard van die middelhoë vokaal /e/ (genoem BEES in die konvensie wat ek hier gebruik), soos wat dit ook in die meeste Germaanse tale waargeneem word. Sodanige verglyding kan beskryf word in terme van die verglydingspersentasie van die tweede vokaalformant, F2, wat in die geval van Afrikaans ’n temporeel dalende formanttrajek of -spoor volg. Dit verskil wel van die ooreenstemmende formant in ander Wes-Germaanse tale, maar kom onverwags ooreen met dié van Noord-Germaans.
’n Vergelyking van BEES met REUS suggereer die neutralisasie van die kontras Gerond ~ Ongerond, maar nie so volledig dat die twee vokale tot één supervokaal /e/ saamsmelt nie.
Ek ontleed en vergelyk met mekaar die manifestasies van die vokaal BEES, onttrek aan ’n groter spraakdatastel wat in tien opnamegebiede versamel is, soos wat dit deur 304 sprekers geproduseer is.
’n Kombinasie van statistiese vergelykingsmetodes ten opsigte van die ontleding en beskrywing van die mate van daling van F2 in BEES is gebruik in ’n poging om die mate van homogeniteit binne die opnamegebiede vas te stel. Hierdie vergelykingsmetodes is ook gepas by in die bepaling van verskille van effekgroottes (uitgedruk in terme van d-indekse) betreffende die persentasie dalings van F2, asook die konstruksie van matryse en boomdiagramme aangaande gestandaardiseerde afstandsmetings tussen gebiede. Die resultate hiervan is uiteenlopend; dit toon in mindere of meerdere mate die homogene karakter van BA. Dit vergelyk ook goed met ’n soortgelyke studie van die volledige vokaalstelsel van dié variëteit (Wissing e.a. 2023). Dit wys dat veel meer werk nog oor hierdie belangrike onderwerp gedoen moet word.
Trefwoorde: afstandsmatryse; akoestiese kenmerke; boomdiagramme; Bruinafrikaans; effekgroottes; middelhoë lang voorvokaal /e/; neutralisasie; opnamegebiede; persentasiedaling; sosiofonetiek; spektrale eienskappe; standaardvariëteit van Afrikaans (StVA); tweede vokaalformant F2; verglyding; verglydingspersentasie; vokaalformantfrekwensies
Abstract
The mid-high front vowel /e/ of Bruinafrikaans
This article is part of a group of Bruinafrikaans (BA) studies, with the primary objective of determining and describing the acoustic quality of its vowels and determining the possibility of a homogeneous nature of this significant variety of Afrikaans. In previous studies strong indications were indeed found in favour of such a characterisation of BA (see Wissing 2022 and Wissing, Baumann and Pienaar 2023.
In the present investigation I focus on the breaking or gliding nature of the mid-high vowel /e/ (referred to as BEES), as reflected in the temporal behaviour of the second vowel formant frequency F2. This is a typical feature that is also present in several Germanic languages, albeit in different ways. For example, in West Germanic Dutch this gliding of F2 is from high to low, whereas in Afrikaans – and unexpectedly also in the North Germanic languages, such as Norwegian and Swedish – the gliding tends to be from low to high. This temporal nature of BEES, as well as the other mid-high vowels /ø/ (REUS) and /o/ (BOOT), can be described in terms of the percentage of the movement of the second vowel formant, F2, from the start of the vowel up to its end.
I use the same research methods as in previous studies on aspects of the BA vowel system mentioned above. The pronunciation of a tried and tested word list, read by 304 speakers of BA, was used to determine the vowel phonemes of the Afrikaans vowel system: /i/, /y/, /e/, /ø/, /ɛ/, /ɑ/, /a/, /ə/, /œ/, /ɔ/, /o/, /u/ in the words kies, nuus, bees, reus, ses, bas, baas, kis, bus, bos, boot, koek, and the diphthongs /əi/, /œy/, /œu/ in byl, uit and oud. The vowels /e/ (BEES) and /ø/ (REUS) are relevant in the current investigation.
The study participants were recruited by trained facilitators in each of the ten areas throughout the Republic (as well as one in Namibia). Recordings of this word list made under the supervision of the facilitators were sent to a central point via smartphone for processing and analysis. The recordings were prepared to extract the appropriate acoustic spectral parameters (F1, F2), which were then statistically processed and used by means of various statistical analyses. A combination of statistical methods of comparison was utilised to analyse and describe the degree of F2 descent in BEES and also REUS to determine the homogeneity within the recording areas. These methods of comparison included determining effect size differences (expressed in terms of d-indices, as proposed by Cohen 1988) regarding the percentage movements of F2, and constructing matrices and dendrograms using standardised Euclidian distance measurements.
The results are varied; they show, to a lesser or greater extent, the homogeneous character of BA. This aligns well with a similar study of the complete vowel system of this variety (Wissing et al. 2023). It indicates that much more work must be done on this important subject. It is a significant possibility that the rounded REUS vowel, due to the widespread presence of the unrounding process in Afrikaans, might be unrounded in BA to such an extent that the phonological contrast between rounded and unrounded vowels is neutralised. The potential merging of REUS and BEES into a single supervowel /e/ is possible. This would effectively double the cases in the BEES dataset, thereby improving the power of the statistical analysis. However, an analysis of the relevant acoustic properties of these two vowels, as found in the speech dataset collected from the ten recording areas, does not provide sufficient findings to support such an amalgamation.
A factor that must be considered here is that all the analyses were done based on the average measurements per area. When individual speakers are examined more closely, one sometimes finds, as in the case of Springbok, deviant cases which are significant in themselves. From a perception point of view, the pronunciation of not only BEES but also the other two mid-high vowels, REUS and BOOT, stand out in such a way that it is quite easy to recognise someone as being from Springbok, something that, according to my observation, is not possible with any of the other nine areas. However, this aspect of the pronunciation of BA as a whole still needs to be investigated in detail.
This also suggests that other speech communities should be considered, particularly in Gauteng and KwaZulu-Natal, which were not included in this investigation. Additionally, the current speech dataset offers an opportunity to learn more about Griqua Afrikaans. I included the recording area of Bergmanshoogte in the Free State, near Philippolis, in this study because it has a significant concentration of coloured Afrikaans speakers who can clearly be identified as of Griqua Afrikaans origin. This variant is generally recognised as one of Afrikaans’ more prominent and important forms. However, an in-depth study of the socio-phonetic characteristics of this variant has not yet been conducted, and such a study would enhance our understanding of Afrikaans in general, and of Bruinafrikaans in particular.
Keywords: acoustic properties; Bruinafrikaans; dendrograms / tree diagrams; d-index; distance matrix; effect sizes; Germanic languages; gliding of F2; gliding percentage; gliding vowels; language varieties; neutralisation; recording areas; second vowel formant; sociophonetics; spectral properties; vowel formant frequencies
1. Inleiding
Hierdie artikel vorm deel van ’n groter projek waarin die akoestiese eienskappe van die vokaalstelsel van Bruinafrikaans (BA) ondersoek en beskryf word. Hoewel so ’n beskrywing waardevol op sigself is, is dit ook noodsaaklik met die oog op ’n poging om te probeer bepaal in hoeverre mens van BA as een van die belangrikste variëteite van Afrikaans kan praat. Hierdie ondersoek sluit by die groter projek aan, en wel ten opsigte van die lang, middelhoë voorvokaal BEES (/e/), met as kernvraag dié na die mate van homogeniteit van BA. Onlangs gepubliseerde bydraes hieroor is dié van Wissing (2019, 2022, 2023); Wissing, Baumann en Pienaar (2023).
Die basiese doelstelling van hierdie ondersoek na die /e/-vokaal, oftewel BEES, is ’n deeglike beskrywing van BA. Hiervoor is die spraakopnames van tien opnamegebiede van BA ondersoek. So ’n beskrywing dien as basis van ’n akoestiese ontleding van BEES, wat nodig is vir die bereiking van ’n aantal navorsingsdoelstellings. Die oorhoofse doel is die opvolging van vorige bevindings dat BA grootliks as homogene variëteit van Afrikaans gesien kan word. Ek gaan ook in op die moontlikheid van ’n samevoeging van die ongeronde vokaal /e/ met sy geronde eweknie /ø/, omdat daar sterk aanduidings is (bv. by De Villiers en Ponelis 1987) dat die proses van ontronding reeds grootliks voltrek is in die spraak van Kaapse Vernakulêr-Afrikaans (KVA), asook die koine.2 Dit beteken dat hier sprake kan wees van die neutralisasie van die kontras Gerond ~ Ongerond in BA, anders as by die KVA en die koine. Laastens plaas ek die produksiebevindinge met betrekking tot BEES in die breër perspektief van die Germaanse tale, waarvan Afrikaans natuurlik een is.
Ek gebruik dieselfde ondersoekmetodes as in genoemde vorige studies. Dieselfde deelnemers se uitspraak van die inlees van dieselfde woordelys is ook hier ingespan om die Afrikaanse vokaalfoneme te onttrek: die vokale /i/, /y/, /e/, /ø/, /ɛ/, /ɑ/, /a/, /ə/, /œ/, /ɔ/, /o/, / u/ in die woorde kies, nuus, bees, reus, ses, bas, baas, kis, bus, bos, boot, koek, en die diftonge /əi/, /œy/, /œu/ in byl, uit en oud. Die vokaal /e/ (BEES) is toepaslik in die huidige ondersoek.
Soos wat die geval is in genoemde vorige studies van hierdie aard, toon die huidige resultate van hierdie sosiofonetiese ondersoek van BEES dat BA ’n betreklik homogene entiteit is, asook ’n stabiele variëteit, waarin min verskille gevind word ten opsigte van die sosiolinguistiese faktore van geografiese ligging, ouderdom en geslag.
Hierdie bydrae is eerstens ’n beskrywing en tipering van die ongeronde, middelhoë, lang voorvokaal /e/ van BA in die groter konteks van die belangrikste Germaanse tale. Tweedens kyk ek na die mate van homogeniteit van BA as ’n belangrike variëteit van Afrikaans wat betref die akoestiese eienskappe van BEES,3 een van die interessantste vokale van Afrikaans. Hiervoor gebruik ek ’n aantal bekende ontledingsmetodes.
Die vokaal BEES is nog nie indringend ten opsigte van enige variëteit van Afrikaans bestudeer nie, dus ook nie betreffende BA nie. Hoewel dit op grond van die produksie en persepsie van dié vokaal waarskynlik is, is dit nie ’n uitgemaakte saak dat dit dieselfde fonetiese eienskappe het as in die Standaardvariëteit van Afrikaans (StVA) nie. Dit is byvoorbeeld bekend dat daar wel ’n beduidende verskil is tussen BA en StVA wat betref die akoestiese karakteristieke van die vokaal BAAS. In BA het BAAS en BAS ’n baie soortgelyke F2-kwaliteit – hulle word ook beide as “plat” gehoor, terwyl daar ’n duidelike kwaliteitsverskil tussen dié twee vokale by StVA is (vgl. bv. Wissing 2023). (Kwaliteit verwys hier na die akoestiese eienskap van ’n klank, gewoonlik uitgedruk in terme van vokaalformantfrekwensies.) Ook die middelvoorvokaal SES (/ε/), wanneer dit gevolg word deur /k x r/ in dieselfde sillabe (in bv. hek, reg, ver), vertoon groot verskille tussen StVA en BA. In eersgenoemde word dit merkbaar verlaag, terwyl dit nie die geval is met dié vokaal in BA nie (vgl. bv. Wissing 2019). Aan die ander kant word SES voor /l/ wel oor ’n wye front duidelik deur bruin sprekers verlaag, en ook meestal gepalataliseerd uitgespreek (melk word ongeveer [mjælk]).4
Dit is insiggewend om die fonetiese eienskappe van die BEES-vokaal van Afrikaans te vergelyk met dieselfde vokaal in die belangrikste ander Germaanse tale, waarin dié vokaal duidelik ’n diverse fonetiese karakter het betreffende die mate van die monoftongiese karakter (eenklankigheid) daarvan (bv. in Vlaams en Duits). Dit moet gedoen word ten einde te kan bepaal waar hierdie Afrikaanse vokaal in die groter Germaanse bestel inpas. Nederlands en Duits is die bekendste van die hoof- Germaanse tale (die ander is Deens, Faroëes, Fries, Luxemburgs, Noorweegs, Sweeds, Vlaams en Yslands).5 Dit is welbekend dat van hierdie tale ook belangrike variëteite besit, byvoorbeeld Oostenrykse Duits, wat beskou word as ’n variëteit van Standaardduits. Deens, Faroëes, Noorweegs, Sweeds en Yslands word as Noord-Germaans gereken, en die res (Afrikaans, Duits, Fries, Nederlands) as Wes-Germaans (vgl. ook Kotzé 2023 vir ’n effens meer uitgebreide indeling). Dit is interessant om te sien in watter mate die akoestiese beeld van BEES in hierdie indeling inpas.
Met die oorhoofse vraag ten opsigte van die mate van homogeniteit wat daar sou kon voorkom tussen die tien opnamegebiede wat hier bestudeer word, kan dit insiggewend wees om in hierdie geval te kyk in watter mate BEES in al die opnamegebiede ooreenkom of verskil, net soos wat in Wissing (2023) vir BAAS gedoen is; ook oorhoofs ten opsigte van die volledige vokaalruimtes van hierdie tien gebiede, soos ondersoek deur Wissing, Baumann en Pienaar (2023). In beide gevalle is daar genoegsame redes gevind wat sodanige opvolgstudie van BEES regverdig.
’n Sekondêre maar belangrike doelstelling is om na te gaan in hoeverre BA uniek is wat betref die aard van die BEES-vokaal, naamlik of dit ’n ontronde produk kan wees van die geronde /ø/ (REUS), (dus /ø/ > /e/). Ondersteuning vir so ’n ondersoek word gevind in De Villiers en Ponelis (1987), wat meen dat hierdie proses van ontronding in KVA, asook in die koine, al ’n voldonge feit is. Dit is onduidelik of die term KVA hier die Afrikaans van bruin sprekers van die Wes-Kaap insluit, meer in die besonder Kaapstad en omliggende streke. Die term koine, volgens dié navorsers die “verbreidste omgangsuitspraakvorm”, sluit waarskynlik ook die spraak van wit sprekers in. Dit beteken dat vir die doel van hierdie studie die bruin sprekers van die Wes-Kaap wel in sowel die KVA as die koine ingesluit sal word.
2. Fonetiese aard van /e/ in die Germaanse tale
As voorbeeld vir hierdie ondersoek kyk ek na ’n spesifieke geval, dié van Duits, wat in verskeie lande (bv. ook in Switserland en Oostenryk) as amptelike taal gebruik word. Die BEES-vokaal van die twee variëteite van Duits, naamlik Standaardduits (Wiese 2000) en Oostenrykse Standaardduits (Moosmüller, Schmid en Brandstätter 2015). Beide is monoftongies van aard. Parallel hieraan sou mens kon verwag dat BA, wat, soos Algemene Afrikaans (AA), ’n variëteit is van groter Afrikaans, ’n soortgelyke ooreenkomstige akoestiese karakter sal hê wat betref die tweede formant, F2, dus beide temporeel geneem óf monoftongies óf beide F2-dalend óf beide F2-stygend.6 Hierdie verwagting word ondersteun deur die feit dat dié vokaal in hierdie variëteite, oppervlakkig geoordeel, baie eenders klink. ’n Fyner akoestiese ondersoek van BEES wat betref die temporele aard van F2 kan ’n presiese kategorisering daarvan moontlik maak.
2.1 Duits en Afrikaans
Dit is insiggewend om te begin deur Duits – ’n belangrike Wes-Germaanse taal – met Afrikaans te vergelyk.
Die verskil, soos in Figuur 1 duidelik blyk, is die F2-spore van sowel Standaardduits as die Oostenrykse variëteit, wat sterk horisontaal verlopend is, terwyl beide die Afrikaanse variëteite se F2’s temporeel dalend-verglydend van aard is (kyk Figuur 2). Die grafieke is in al die gevalle dié van die uitspraak deur vier moedertaalsprekers van die b-letter van die alfabet.7 Enkele ander alfabetletters (met name c, d, e, g), en ook enkele woorde word by Oostenryks gehoor.8 Die klankgrepe pas by die daarby behorende figure van formantverlope in Figure 1 en 2.
Klankgreep 1. Uitspraak van die BEES-vokaal in twee variëteite van Duits en twee variëteite van Afrikaans
Figuur 1. F2-formantverlope van BEES van Standaardduits en dié van Oostenrykse Duits
Figuur 2. F2-formantverlope van BEES van StVA en dié van BA
Volgens hierdie grafieke is Standaardduits en Oostenrykse Duits baie eenders wat betref die verlope van F2 (beide is monoftongies). Daarteenoor is die twee vorme van Afrikaans wel eenders wat betref hulle temporele aard (beide is dalend-verglydend, en nie monoftongies soos in Duits nie); die twee stelle verskil dus merkbaar: Duits se F2 verloop temporeel horisontaal (op die x-as), terwyl dié van Afrikaans sterk dalend verloop. Waar Afrikaans dus foneties diftongies van aard is ([iə]), is Duits monoftongies [e].
2.2 /e/ in die Germaanse tale
Die vraag is of die produksie van die Afrikaanse BEES dan as “afwykend” beskou moet word. Die Germaanse beeld van /e/ toon dat die antwoord hierop “nee” is. Vergelyk hiervoor die klankgrepe en die daarmee gepaardgaande formantverloopbeelde van die BEES-klank van ander Germaanse tale wat ek ondersoek het, hier onder.
Klankgreep 2. Uitspraak van die BEES-vokaal in drie Germaanse taalgroepe
1. F2 verglydend-dalend
2. F2 horisontaal
3. F2 verglydend-stygend
Figuur 3. Vokaalformantspore van drie groepe Germaanse BEES, gerangskik volgens bewegingspatrone van F2 (groen)
Die genoemde neiging van F2 se formantspoor by hierdie drie tipes BEES kan soos volg beskryf word:
1. F2 verglydend-dalend. F2 begin ongeveer by [i] en eindig ongeveer by [ə].
2. F2 monoftongies: F2 se formantspoor verloop horisontaal; bly stabiel; kan dus foneties getranskribeer word as [e].
3. F2 verglydend-stygend: Die formantspore van F2 is grootliks ’n spieëlbeeld van dié van 1. Dit begin by ongeveer [ə] en eindig na aan [i].
Dit is opmerklik dat BEES op verskillende maniere ortografies weergegee word in die Germaanse tale wat hier genoem word. Dit strek van “ee” in geslote sillabes; “e” in oop sillabes in Afrikaans, asook Nederlands, Vlaams en Duits; “ie” / “ea” in Fries; “e” / “é” in Yslands, Noorweegs en Sweeds, tot “ei” in Faroëes.
2.3 Verglydingspersentasie van F2
Ek neem die mate van styging of daling van F2, uitgedruk in persentasiepunte, as ’n verteenwoordigende maatstaf van die karakteristieke eienskappe van BEES. Die staafgrafiek in Figuur 4 is so ’n vergelyking van die drie klasse Germaanse tale.9
Figuur 4. Persentasie temporele beweging van F2 van die BEES-vokaal
Die eerste groep tale (rooi) sluit, behalwe Afrikaans, die Noord-Germaanse tale in; die res is almal Wes-Germaans. Mens sou verwag dat Afrikaans, op grond van sy historiese verbintenis met Nederlands, saam met Nederlands in die tweede groep sou tuishoort. Dit is ’n baie interessante afwyking, maar dis nie hier die plek om dit te probeer verklaar of daaroor te bespiegel nie. Waarom Afrikaans nie in die blou groep val nie, soos verwag kon word, weens sy historiese verbintenis met Nederlands, is ’n gegewe wat op sigself interessant is, maar waarop nie hier ingegaan kan word nie.
Afrikaans vergly, soos gesien word aan die 16% in Figuur 4, baie soos Noorweegs se 7%, maar taamlik minder as die res. Dit is bekend dat Vlaams gekenmerk word deur die feit dat dit geen verglydende vokale het nie (Verhoeven 2005). Die 0% van Luxemburgs (Gilles en Trouvain 2013), en dié van Duits (Wiese 2000), val in dieselfde kategorie van die monoftongiese BEES-vokaal as Vlaams. Nederlands, Fries en Deens se F2 vergly selfs ’n bietjie sterker, maar in die teenoorgestelde rigting as die F2 van die eerste groep; dit vorm dus ’n duidelike spieëlbeeld van die formante van die groep rooi tale.
Wat vir ons hier van belang is, is om vas te stel waar BA ingedeel moet word. Bloot klanklik beskou, lyk dit asof dit ook saam met Afrikaans ingedeel sal moet word. Dit het reeds hier bo (in afdeling 2.1) geblyk dat BEES van BA wel ’n soortgelyke formantpatroon het as dié van StVA. Hier onder toon ek dat dit waarskynlik wel die geval is. Daarom maak ek in hierdie ondersoek gebruik van ’n spraakdatastel wat bestaan uit spraakopnames van ongeveer tien groepe bruin sprekers van regoor die land. Hierdie datastel is reeds in ’n aantal publikasies bekendgestel en ten opsigte van verskillende fasette van die vokaalstelsel van BA gebruik (Wissing 2022, 2023a, 2023b). In afdeling 3 (Metode) sê ek meer hieroor.
2.4 /e/ van ’n bruin spreker
Luister weer na hierdie klankgreep. Dit verteenwoordig die produksie van die woord bees deur ’n 58-jarige manlike bruin spreker van Bergmanshoogte, willekeurig uitgekies. Figuur 5 stel die verloop van die drie formante voor.
Klankgreep 3
Figuur 5. Vokaalformantspore van die produksie van één spreker van die BEES-vokaal van BA
Die verloop van F2 (groen) is duidelik dalend, soos wat verwag kon word. Dit sal hier onder vir BA in sy geheel ondersoek word.
Ten einde die tweede doelstelling van hierdie ondersoek te bereik, sal die produksie van die geronde middelhoë voorvokaal REUS ook hier van nader bekyk moet word. In die volgende afdelings verskaf ek die basiese besonderhede aangaande die metode wat ek gevolg het ten einde hierdie en ander nodige ontledings te kan doen.
3. Metode
Besonderhede aangaande die deelnemers aan die projek, die wyse van data-insameling, die prosessering daarvan, asook die ontleding van die basiese resultate, is dieselfde as wat ek tevore gebruik en gerapporteer het in die ander ondersoeke na die vokaalsisteem van BA, of onderdele daarvan. Vergelyk hiervoor die nuutste publikasies waarin dit uitvoerig uiteengesit is (Wissing 2022; Wissing, Baumann en Pienaar 2023.). Omdat dit geredelik beskikbaar is, gee ek hier dus slegs ’n aansienlik vereenvoudigde oorsig daarvan.10
3.1 Deelnemers
Die opnames van 346 deelnemers uit tien opnamegebiede waarvan dit bekend is dat dit gebiede is wat dig bevolk is deur bruin sprekers van Afrikaans (vgl. veral Wissing 2022, waarin die keuse van hierdie gebiede uiteengesit is), is versamel, waarvan ’n subgroep vir die ontleding gebruik is. Hiervan is uiteindelik 304 vir die basiese ontledings van BEES gebruik. Weens praktiese struikelblokke betreffende die versameling van spraakopnames in die veld, is die spraakdatastel in verhouding tot die aantal opnames per gebied, ouderdom en geslag van die deelnemers nie gebalanseerd nie. Wat dit betref, kan hierdie ondersoek nie as suiwer eksperimenteel getipeer word nie, maar wel as semi-eksperimenteel.
3.2 Ontlokkingsmateriaal
Dieselfde woordelys as tevore is hier gebruik ten einde akoesties-fonetiese besonderhede oor die twee toepaslike vokale, BEES en REUS, te bekom. Dié woordelys is kies, nuus, bees, reus, ses, bas, baas, kis, bus, bos, boot, koek; en byl, uit en oud, ten einde die monoftonge /i/, /y/, /e/, /ø/, /ɛ/, /ɑ/, /a/, /ə/, /œ/, /ɔ/, /o/, /u/ en die diftonge /əi/, /œy/ en /œu/ in byl, uit en oud te verkry.
3.3 Prosedures
Ortografiese transkripsies van elke opname, in PRAAT (Boersma en Weenink 2022) gedoen, is na fonetiese weergawes omgeskakel wat per foneem met die ouditiewe vorme daarvan belyn is, en deur PHONAAS uit die fonetiese vorme onttrek is (Pienaar en Wissing 2015). Vergelyk ook Van Niekerk en Barnard (2009), Davel en Barnard (2008), en Davel en De Wet (2010). Die vokaalformante F1 en F2 word vir ontleding onttrek. Hiervan is F2 die belangrike en toepaslike formant vir hierdie ondersoek. Resultate van hierdie proses word op Excel-sigblaaie uitgeskryf, wat dan beskikbaar is vir beskrywing en ontleding, soos ook voorheen, deur van die statistiese funksies van Statistica gebruik te maak. Anders as tevore, het ek die F2-data skoongemaak van uitskieters wat buite die waarskynlike grense van die data lê, en wel deur die F2-data per deelnemer na z-tellings te transformeer en dan die metingsgevalle wat buite twee standaardafwykings van die gemiddeldes lê, van die ontledings uit te sluit. Gevolglik is die totale geldige metings van 346 kleiner as wat in vorige ondersoeke die geval is, en is altesaam 304 geldige gevalle ingesluit.
4. Resultate
Ten einde die relatiewe posisie van BEES in die vokaalsisteem van die sprekers van BA wat ek ondersoek het, te kan sien, verstrek ek, tesame met die ander Afrikaanse vokaalfoneme in Tabel 1, die toepaslike akoestiese metings van die vokaalformantfrekwensies van F1 en F2. F1 word volledigheidshalwe in hierdie oorsigstabel bygevoeg.11 Voorts word slegs gefokus op die akoestiese inligting met betrekking tot die tweede formant, F2, asook dié van F2-gly. Hierdie twee metings vorm die basis van die ontledings en beskrywings van die akoestiese eienskappe van BEES. Die temporele verskil van die aanvang en die einde van F2 word gebruik om die relatiewe persentasie verglydende daling te bereken. Sodanige daling word bereken deur die verskil tussen F2 en F2-gly te bepaal.
Soos in vorige publikasies (bv. Wissing 2017 en 2022) word hier gebruik gemaak van effekgroottemetings, uitgedruk in terme van d-indekse, soos deur Cohen (1988) ingevoer, om die praktiese beduidendheid van verskille tussen twee gemiddeldes te bepaal en uit te druk. Dit is nog selde in die Suid-Afrikaanse konteks gebruik, byvoorbeeld soos plaaslik toegepas deur Steyn (2003). Kraft (2020) gee ’n uitvoerige literatuurlys van werke waarvan daar in die opvoedkunde gebruik gemaak word om dit te bepaal. Met “twee gemiddeldes” bedoel ek dié van, in ons geval, twee stelle metings uit al die metings van twee groepe sprekers, byvoorbeeld gemiddelde F2-waardes van twee opnamegebiede se sprekers saam geneem, of, meer spesifiek, ou teenoor jong, of vroulike teenoor manlike sprekers.
Cohen (1988) onderskei hiervoor vier vlakke van praktiese beduidendheid van sodanige verskille tussen gemiddeldes:12 Vlak 1: d < 0,21 (geen beduidende verskil); Vlak 2: d = 0,21–0,50 (slegs klein beduidende verskil); Vlak 3: d = 0,51–0,80 (matig beduidende verskil); en Vlak 4: d = 0,81 en groter (groot beduidende verskil). Waar toepaslik, word d-waardes in die tabelle aangedui (soos Tabel 2, en ander). Ek maak ook in hierdie ondersoek van hierdie vlakke gebruik.
Tabel 1 is ’n tabel met die volledige stel vokale van BA ten opsigte van die eerste twee vokaalfrekwensieformante. Dié van F1 en F1-gly word hier eenmalig gegee, slegs ter wille van die volledigheid. Verderaan bepaal ek my in dié studie slegs by F2 en F2-gly, soos wat in ondersoeke soos hierdie die gebruik is.
Die inligting wat vervat is in hierdie tabel, is gegrond op ’n groter spraakdatastel (N 312–392 per vokaal); die 304 sprekers wat verder hier bo gebruik word, is ’n substel hiervan.
Tabel 1. Vokaalfrekwensies van F1 en F1-gly, en F2 en F2-gly van al die Afrikaanse vokaalsegmente, soos geproduseer deur al die bruin sprekers van die tien gebiede, met d-indekse van beide
Klik hier vir ’n groter weergawe van die tabel.
4.1 BEES + REUS = /e/?
Ek het die moontlikheid reeds genoem dat die verskil tussen BEES en REUS, as gevolg van ’n moontlike neutralisering van die kontras Gerond ~ Ongerond, in so ’n mate weglaatbaar sou kon wees dat hulle saam as één vokaalfoneem /e/ geneem sou kon word. In so ’n geval sou dié twee vokale dus saamgevoeg kon word as onderdeel van ’n vokaalstelsel bestaande uit 14 vokaalsegmente, in plaas van die gewone 15 van Tabel 1. In die volgende afdeling gaan ek op hierdie moontlikheid in, en wel deur die akoestiese eienskappe van F2 en F2-gly van BEES en REUS per opnamegebied te vergelyk. F2-gly word nader bekyk ten opsigte van die spesifieke temporele spoor van F2 vanaf die begin van die betrokke vokaal tot aan die einde daarvan. Wat betref Afrikaans, en daarmee saam ook die Noord-Germaanse tale wat hoër op behandel is, beteken dit ’n daling, artikulatories gesien, dit wil sê ’n breking van ongeveer /i/ in die rigting van /ə/. Sou dit blyk dat daar geen prakties beduidende verskille tussen BEES en REUS ten opsigte van dié parameters voorkom nie, sou ’n samesmelting van dié twee inderdaad geregverdig wees, en sou ons dan die hierop volgende ontledings van die twee gesamentlik kon doen, wat natuurlik ’n voordelige verdubbeling van hoeveelheid metingsdata tot gevolg sou hê. Fonologies gesien, sou dit deel van ’n proses van vokaalstelselvereenvoudiging beteken. Dit is begryplik as mens in ag neem dat die geronde lede van dié pare vokale as abnormaal, of gemerk, beskou word, teenoor die ongerondes wat as normaal, of dan ongemerk, getipeer word. Op linguisties-teoretiese vlak sou dit beskou kon word as ondersteunende bewysvoering vir ’n geval van neutralisasie van die kontras Gerond ~ Ongerond, wat sal beteken dat die geronde vokaal, hier REUS, sou saamsmelt met BEES, met as resultaat ’n nuwe supervokaal /e/.
Tabel 2. Vergelyking van die twee middelhoë voorvokale BEES en REUS, soos geproduseer deur al die sprekers van die tien opnamegebiede, met d-indekse van beide
Klik hier vir ’n groter weergawe van die tabel.
4.1.1 Gemiddelde F2
Let allereers daarop dat ongeronde BEES se gemiddelde F2 ’n te verwagte tipies hoër tweede formant het (2 310 Hz13), teenoor die laer F2’s (2 229 Hz) van die geronde vokale van REUS. Sodanige laer hertzwaardes geld ook die ander ongeronde vokale in die pare KIES ~ NUUS (/i/ ~ /y/) en KIS ~ BUS (/ə/~/œ/). REUS se hertzwaarde is gelyk aan A in die formule, en dié van BEES aan B, ten einde d-indekse te bereken (kyk eindnota 11). Tipies sal d dan ’n positiewe getal wees. In gevalle waar d negatief is, beteken dit slegs dat REUS ’n hoër hertzwaarde het as BEES. Daar kom wel twee gevalle voor (Delft: d = -0,06; Suid-Kaap: d = -0,02) van negatiewe d-waardes, maar dié d’s is so klein dat dit neerkom op géén betekenisvolle verskille tussen BEES en REUS nie; almal lê op Vlak 1 van prakties betekenisvolle verskille. Dieselfde kan gesê word van gevalle van ’n klein positiewe waarde, naamlik Matzikama (d = 0,01) en in ’n mindere mate Oos-Kaap (d = 0,10). In al vier genoemde gebiede lyk ontronding van REUS dus taamlik duidelik, wat neerkom op gevalle van neutralisasie. Kakamas, Promosa, Robertson en Springbok – in dié volgorde – volg hierop; geeneen daarvan is hoër as Vlak 2 nie. Bergmanshoogte (d = 0,69) en Gobabis (d = 0,68) is wel Vlak 3-gevalle, wat as matig beduidend beskou moet word, en neutralisasie kan hier nie aanvaar word nie. Voordat ’n finale oordeel met betrekking tot die neutralisasie van die kontras Gerond ~ Ongerond gemaak kan word, sal meer diepgaande ontledings ook van die ander twee genoemde pare (KIES ~ NUUS en KIS ~ BUS) gedoen moet word.
Die bevindinge soos wat hier ten opsigte van F2 se vokaalformantkenmerke gerapporteer is, dui daarop dat hier sprake sou kon wees van subvariëteite, naamlik ’n groter groep gebiede bestaande uit Delft, Matzikama, Oos-Kaap en Suid-Kaap (met Promosa as randgeval), waarin geen prakties betekenisvolle verskille tussen BEES en REUS voorkom nie, en aan die ander kant ’n kleiner groepie, bestaande uit Bergmanshoogte en Gobabis, wat wel sterk verskille toon. Die res, Kakamas, Robertson en Springbok, vorm dan ’n tussengroep.
4.1.2 Persentasiedaling van F2
In die geval van beide BEES en REUS word dit perseptueel as sterk brekend waargeneem – akoesties het beide ’n F2 wat dalend-verglydend is. Hier kyk ek na akoestiese berekenings van die mate waarin F2 gly, en wel in terme van die persentasiedaling daarvan. Resultate kom neer op wat hoër op in die geval van die verskillende Germaanse tale verskaf is (kyk Figuur 4).
’n Nadere oorsigtelike ondersoek na BEES en REUS se F2-persentasiedaling daling per opnamegebied bring aan die lig dat hierdie twee vokale nie saamgesmelt moet word nie, soos in die volgende tabel gesien kan word:
Tabel 3. Persentasiedaling van F2 van BEES en REUS, soos geproduseer deur die 304 lesers van die tien opnamegebiede
Die daling van F2 by BEES is oorheersend duideliker as by REUS te sien: gemiddeld 17% by BEES, en slegs 13,6% by REUS. Slegs by Matzikama is dit andersom, en by Oos-Kaap is daar geen verskil nie. Fonologies gesien, beteken dit dat hier nie sprake is van die neutralisasie van die kontras tussen die geronde REUS en die ongeronde BEES nie. Ek beperk my dus vervolgens tot ’n meer volledige ontleding en beskrywing van die akoestiese aard van BEES as foneemvokaal, dus met uitsluiting van REUS.
Ek konsentreer hier op die mate waarin die bevindinge lig kan werp op sodanige akoestiese eienskappe van BEES, wat behulpsaam kan wees by ’n beantwoording van die basisvraag of die variëteite van die tien opnamegebiede as één van die belangrike variëteit van BA geneem kan word – en of daar meerdere subvariëteite geïdentifiseer kan word.
5. Akoestiese eienskappe van BEES
In hierdie afdeling en dié wat hierop volg, gee ek ’n breë oorsig van die toepaslike akoestiese inligting van die vokaal BEES van BA. Ek doen dit deur eerstens in te gaan op die vokaalformantfrekwensie F2. Soos ook in die voorgaande afdelings gedoen is, bekyk ek die gemiddelde F2-hertzwaarde, asook die temporele eienskap betreffende die dalende aard daarvan, wat gedoen word deur F2-gly in ag te neem. Derdens vergelyk ek elke paar van die opnamegebiede, en wel deur gebruik te maak van die Euklidiese afstandsvergelyking van die mate van daling van F2 van die lede van elke paar. Laastens wys ek op die onderlinge samehang van elk van die pare in die vorm van boomdiagramme (dendrogramme).
Die basiese akoestiese metingsinligting van BEES is reeds in die vorige afdeling saam met dié van REUS in Tabel 2 verskaf. Ek herhaal dié van BEES hier in Tabel 4, en gaan, soos hier bo uiteengesit, in afdeling 5.1 in meer besonderhede daarop in. Ek verskaf die resultate van die ondersoek van die BEES-produksie van twee groepe sprekers ten opsigte van die ontledings van a) die gemiddeldes van F2 en F2-gly, b) die persentasie F2-dalings, c) matryse van paarsgewyse afstande, asook d) boomdiagramme van laasgenoemde paarsgewyse afstandsmetinge. Die twee genoemde groepe is 1) die totale groep sprekers (N = 304) en 2) al die vroulike sprekers (N = 194). Dit is op sigself ook belangrik om die produksies van die vroulike sprekers met dié van die manlikes te vergelyk, en so ook die produksies van ou en jong sprekers, maar die aard en samestelling van die huidige spraakdatastel leen hom ongelukkig nie tot ’n optimale ontleding nie. Gevolglik beperk ek my tot die produksies van BEES deur slegs die vroulike sprekers (kyk afdeling 6).
5.1 F2 en F2-gly
Tabel 4 verskaf die hertzmetings van F2 en F2-gly van die vokaal BEES, asook daarby toepaslike d-indekse.
Tabel 4. Gemiddelde F2- en F2-glyfrekwensies van BEES, soos geproduseer deur al die sprekers van die tien opnamegebiede; d-indekse van beide14
Klik hier vir ’n groter weergawe van die tabel.
Betreffende die vlak van prakties beduidende verskille tussen die gemiddelde meting (onderste ry) en dié van elk van die individuele gebiede, is daar slegs ’n gedeeltelike korrelasie merkbaar tussen die F2 en die F2-gly se d-indekse. Slegs Suid-Kaap se F2 en F2-gly is matig beduidend verskillend (d = 0,43–0,67). Die meeste ander gebiede toon lae d-indekse vir F2 en F2-gly, op grond waarvan gesê kan word dat wat hierdie aspek betref, dié gebiede as redelik homogeen beskou sou kon word. Die persentasie daling, wat afgelei kan word van die beweging van F2 na F2-gly, sê ’n bietjie meer hiervan. Dit is veral direk vertaalbaar na die artikulatoriese aard van verglydende vokale soos BEES, soos gesien kan word in Tabel 5.
Betreffende die vergelyking van Gobabis met die ander nege opnamegebiede, kan daar op grond van hierdie bevindinge nie tot enige bevestigende gevolgtrekkings gekom word nie; by sowel F2 as F2-gly lyk die d-indekse baie soortgelyk aan dié van die ander gebiede. Die bevindinge wat betref die persentasiedaling van F2 van BEES in die volgende tabel bevestig hierdie opvatting.
5.2 Persentasie F2-dalings
Tabel 5. BEES se persentasiedaling van F2 soos geproduseer deur al die sprekers van die tien opnamegebiede
Ons weet op hierdie stadium reeds dat BEES ’n verglydende vokaal is, en wel van ’n [i]-posisie na dié van [ə]. Hiervolgens lyk dit asof mens die breking van dié vokaal die duidelikste by die sprekers van Bergmanshoogte en Gobabis (beide 21%) sal hoor, en in Delft, Matzikama, Oos-Kaap en Springbok (almal 13%) die minste. Op grond hiervan alleen sou mens twee subgroepe kon onderskei: een groep, dié wat bo die gemiddeld van 17% lê: Bergmanshoogte en Gobabis (beide 21%), Kakamas en Promosa (19%), Suid-Kaap (18%); en die res wat onder 17% lê: Robertson (16%), Delft, Matzikama, Oos-Kaap en Springbok (almal 13%).
Ons kan dit nou, op grond van die voorgaande ontledingsbesonderhede van al die sprekers van BA, saam geneem, visueel voorstel, soos in Figuur 6.
Figuur 6. Vokaalformantspore van die produksie van die BEES-vokaal deur al die sprekers van BA van die tien opnamegebiede
Die daling van hierdie beeld van BEES kom visueel ooreen met dié van Afrikaans in Figuur 3 (en ook Figuur 5 – beide gegrond op die uitspraak van slegs een spreker); hierdie daling is byna identies met dié van die Afrikaans van Figuur 4 (16%).
5.3 Matrys van afstande
Hierdie matrys wys telkens die afstand, wat betref die persentasie daling van F2, waarop die onderskeie opnamegebiede van mekaar geleë is; dit is gegrond op die stelling van Pythagoras, wat die kortste pad tussen die twee punte in ’n reguit lyn bereken. Hierdie waarde kom ten opsigte van elk van die 45 pare opnamegebiede voor. In die hierop volgende matryse word die kleinste verskil ten opsigte van die persentasie daling van F2, soos bereken vir die BEES-produksies, van elk van die tien opnamegebiede uitgedruk deur die laagste waarde in die selle. Hoe groter die verskil, hoe groter die waarde. Elke paar gebiede wat met mekaar vergelyk word, is gegrond op die aantal sprekers van elk van al tien opnamegebiede, en vorm op hulle beurt weer die basis vir die konstruksie van die boomdiagram van Figuur 6.
Tabel 6. Paarsgewyse vergelykings tussen F2-persentasiedalings van al die sprekers van al tien opnamegebiede15
Klik hier vir ’n groter weergawe van die tabel.
In hierdie matrys is die 26 gevalle wat laer is as die gemiddelde van alle gevalle (A = 1,08)16 met geel aangedui (A = 0,85), en die 19 wat hoër as 1,08 is, in groen (A = 1,39).
Van die 45 pare in geel is 26 laer (gemiddeld A = 0,85) as die totale gemiddeld van A = 1,08; 19 is hoër (A = 1,39). Die grootste afstand is tussen Matzikama en Gobabis (A = 1,58), en die kleinste tussen Bergmanshoogte en Gobabis (A = 0,60). Die 26 lae A-waardes dui op ’n groter mate van homogeniteit as die hoër gevalle: hoe kleiner die afstande, hoe meer eenders is lede van ’n paar. Hierdie gegewens word visueel uitgebeeld in die boomdiagram hier onder; ook die onderlinge verhoudinge daartussen, en groeperinge van afstandsgebaseerde pare (Figuur 7).
5.4 Boomdiagram
Die onderlinge verhoudinge van lede van pare word duidelik verbeeld in die boomdiagram van Figuur 7 hier onder. Promosa vorm ’n eie tak, met Bergmanshoogte wat die verste daarvan af lê – ’n verbeelding van die groot A-waardeverskil tussen dié twee. Daarteenoor blyk dit dat pare met klein A-indekse, soos Robertson en Suid-Kaap (A = 0,51) en Bergmanshoogte en Gobabis (A = 0,53) minder van mekaar verwyderd is. Dit blyk ook in die boomdiagram in Figuur 6.
Figuur 7. Boomdiagram van die F2-persentasiedalings van BEES van alle sprekers van alle gebiede
Die boomdiagram in Figuur 7, saam gelees met die A-indekse in die matrys in Tabel 6, suggereer die gegewens van twee hooftakke, beide vertak onder die y-grens van 1,0, wat, weliswaar ietwat arbitrêr, aanduidend is van ’n sterk mate van homogeniteit onder al tien gebiede, dus dat BA op grond hiervan slegs as één variëteit van Afrikaans geneem kan word. Sekerder is egter die aanname van twee subtakke, wat bestaan uit Suid-Kaap, Robertson, Gobabis en Bergmanshoogte, en ’n tweede subtak, spruitende uit ongeveer 0,65, en andersyds een onder 0.75, met as “blare”, naamlik Springbok, Oos-Kaap, Matzikama en Delft. Promosa en Kakamas sluit ook hierby aan.
6. Die vroulike sprekers
6.1 F2 en F2-gly
Tabel 7. Gemiddelde F2- en F2-glyfrekwensies van BEES, soos geproduseer deur al die vrouesprekers van die tien opnamegebiede; d-indekse van beide
Klik hier vir ’n groter weergawe van die tabel.
6.2 Persentasiedaling
Tabel 8. BEES se F2-persentasiedaling, soos geproduseer deur al die vroulike sprekers (N = 184) van die tien opnamegebiede
Ook hier, soos in die geval van die totale groep sprekers (in Tabel 5), is die F2-persentasie daling van Bergmanshoogte se BEES die meeste. Dit beteken daar is ’n opvallende ooreenkoms ten opsigte van hierdie persentasies van die tien opnamegebiede: Beide se gemiddeld is 17%. In geen geval is daar ’n verskil van minder as 11% nie.
6.3 Matrys
Tabel 9. Paarsgewyse vergelykings tussen F2-persentasiedalings van al die vroulike sprekers van al tien opnamegebied
Klik hier vir ’n groter weergawe van die tabel.
In hierdie matrys is die 27 gevalle laer as die gemiddeld van alle gevalle (A = 0,87; vgl. Tabel 6) met geel aangedui (A = 0,70), en die 18 wat hoër as 0,87 is, in groen (A = 1,13).
Betreffende die vraagstuk van homogeniteit sou dit ’n oorweging kon wees om op grond hiervan twee subvariëteite te onderskei. Die boomdiagram hier onder is meer oorsigtelik.
6.4 Boomdiagram
Figuur 8. Boomdiagram van die persentasiedalings van F2 van BEES by alle vroulike sprekers van alle gebiede
Die oorhoofse beeld van hierdie boomdiagram toon dat al die gebiede ongeveer 0,75 (op die y-as) van mekaar lê, wat daarop kan dui dat almal saam in hierdie mate aan mekaar verwant is. Indien ’n afstand van 1,0 as ’n afsnypunt geneem word, beteken dit dat al tien die opnamegebiede as homogeen beskou sou kon word. Minder losweg geredeneer, blyk dit dat die sewe gebiede regs, dus uitgesonderd Matzikama, Delft en Promosa, wat almal aan één knoop onder 0,65 op die y-as hang, wel duidelik geag sou kon word as sodanig homogeen van aard dat dit saam as ’n subvariëteit van BA gesien sou kon word.
7. Springbok, ’n spesiale geval
Ek het ’n belangstelling begin ontwikkel in die opvallend monoftongiese uitspraak van die produksie van die middelhoë lang vokale BEES, REUS en BOOT wat mens by sommige sprekers van Springbok in die gewone omgang waarneem. Hierdie indruk is bevestig deur uitsendings oor veral die radio, maar ook televisie. Ek noem hier ’n geval daarvan, en belig dan die aanleiding daartoe deur ’n noukeuriger beluistering van die 35 opnames wat in die huidige studie van die spraak van lesers van Springbok ondersoek is. Hiermee wil ek die belang van die spraak van individue belig, asook die persoonlike ervarings van die ondersoeker buite die streng objektiewe opnames van woordelyste deur fasiliteerders in die betrokke opnamegebied, soos wat gewoonlik gedoen word.
Die diepgaande ondersoek van die spraak van individue wat deel vorm van groter groepe sprekers word deesdae al hoe meer benadruk, soos blyk uit die bundel bydraes Individuals, communities, and sound change: an introduction, byeengebring deur Hall-Lew, Honeybone en Kirby (2021). Nader tuis gaan Coetzee, Beddor e.a. (2022) in op die produksies en persepsies van individue ten opsigte van nasalering in Afrikaans.
Die uitspraak van Joshwin Louw, met wie ’n onderhoud in die RSG-program Sondagjoernaal (26 Januarie 2020) gevoer is,17 het by my die vermoede gewek dat hy van Springbok afkomstig was, ’n vermoede wat bevestig is toe ek persoonlik met hom in aanraking kon kom. Hier is ’n uittreksel waarin veral die BOOT-vokaal prominent monoftongies uitgespreek word. Luister na die woorde so, geloof en woord.
Klankgreep 4
Dis natuurlik ’n sterk moontlikheid dat die monoftongiese aard van BOOT, wat hier gehoor word, ook in BEES gevind sal word, ’n vermoede wat bevestig is in die opname van die woordelys wat ek van hom kon verkry. Hier is die klankopname van sy BEES, plus die ooreenkomstige spektrogram en ’n formantverloopgrafiek van dié vokaal.
Klankgreep 5
Figuur 9. Ossillogram (bo), en spektrogram en formantspoorgrafiek (onder), van die BEES-vokaal soos geproduseer deur Joshwin Louw (Springbok, Namakwaland)
’n Vergelyking van hierdie figuur met Springbok se van F2 maak dit natuurlik duidelik dat dit onwaarskynlik is dat ál die sprekers se produksies monoftongies kan wees. ’n Nadere ondersoek van die individuele opnames van die Springbok-opnames van hierdie studie laat blyk dat ’n aantal van die sprekers wel min of meer monoftongiese vokale produseer. Nege van die mans en vyf van die vroue se persentasiedaling van F2 is 10% of minder, gesamentlik 43% van die 35 sprekers van Springbok. Dit kom dus meer by manlike sprekers voor. In die onderstaande figuur gee ek ’n voorbeeld van die spektrogramme met formantgrafieke van drie van die nege mans, waaruit die monoftongiese temporele aard van F2 duidelik blyk:
Figuur 10. Spektrogramme en formantspore van BEES, geproduseer deur drie manlike sprekers van Springbok
’n Veel presieser ondersoek van hierdie verskynsel is wel nodig, maar dis nie nou die plek daarvoor nie.
Die inligting met betrekking tot monoftonge wat ek tot hiertoe uitgelig het, bied ’n moontlike verklaring vir die feit dat dit so duidelik in juis die geval van Springbok voorkom.18 As mens is gedagte hou dat Duits soortgelyke monoftongiese middelhoë vokale het (kyk Figuur 1), word die invloed van Duits hier wel ’n sterk moontlikheid. As in ag geneem word dat daar in die 19de eeu en later ’n aantal Duitse sendelinge van die Morawiese kerk in die nabyliggende Concordia (25 km van Springbok af) en Steinkopf (45 km van Springbok af) gevestig is, is dit nie onwaarskynlik dat hulle in Springbok en omgewing self werksaam was nie (Rawson 2022). Dit is dus nie vergesog dat die Afrikaans – en dus ook die uitspraak daarvan – van ten minste sommige inwoners van Springbok deur Duits beïnvloed kon gewees het, en dat reste daarvan steeds in die geval van Springbok waar te neem is.
9. Samevatting
Die drie kwessies wat aangaande die /e/-vokaal, BEES, van BA ter sprake is, is in hierdie artikel met ’n wisselende mate van sekerheid beantwoord. Die duidelikste bevinding betref die status daarvan binne die groot Germaanse taalopset. BEES se tweede formant, F2, wat die hoofaanduider is van die mate van verglyding van sogenaamde gebroke, of dan verglydende, vokale, kom ooreen met die uitspraak daarvan in StVA, en moet dus bygereken word by die ander Noord-Germaanse /e/’s wat ek ondersoek het, en nie, soos verwag sou kon word, by Wes-Germaans nie.
Tweedens wys ’n vergelyking van ongeronde BEES met sy geronde eweknie, REUS (/ø/) weliswaar op spore van neutralisering van die kontras Rond ~ Ongerond, maar nie op so ’n groot skaal dat mens dié twee vokale tot één supervokaal, /e/, kan saamvoeg nie. Sodanige samevoeging sou beteken dat die vokaalstelsels van BA en dié van StVA natuurlik van mekaar sal verskil.
Derdens is die hoofvraag, waaraan die grootste deel van dié ondersoek gewy is, of die bevindinge omtrent die akoestiese eienskappe van BEES genoegsame ondersteuning kan gee aan die gebruik van die benaming Bruinafrikaans as homogene entiteit vir die Afrikaans van bruin sprekers. Afhangende van die mate van presisie waarmee met die bevindinge omgegaan word, kan daar tot verskillende gevolgtrekkings gekom word betreffende die homogeniteitskwessie. Soos uitgewys in Figuur 7, sou mens die afstande tussen die tien opnamegebiede as so klein kon beskou dat al dié gebiede wel as homogeen beskou kan word. Daar is uitgewys dat die hoogste vertakking goed onder die 1,0-merk op die y-as lê. Mens sou, weliswaar sonder statistiese gronde, ’n aanname kon maak dat alles onder dié merk as naby genoeg aan mekaar beskou kan word om as aanduiding te dien van eendersheid by al die gebiede. ’n Faktor wat hier in berekening gebring moet word, is dat al die ontledings gedoen is met as grondslag die gemiddelde metings per gebied. Wanneer daar noukeuriger op individuele sprekers gelet word, vind mens soms, soos in die geval van Springbok, afwykende gevalle, wat op sigself veelbetekenend is. Uit ’n persepsie-oogpunt staan die uitspraak van nie net BEES nie, maar ook die ander twee middelhoë vokale, REUS en BOOT, sodanig uit dat dit taamlik maklik is om iemand as Springboks te kan herken, iets wat volgens my eie waarneming nie met een van die ander nege gebiede moontlik is nie. Ook hieraan moet nog baie gewerk word.
Die ondersoeksbevindinge ten opsigte van die enkele vokaal, BEES, vergelyk goed met dié van die volledige vokaalstelsel van BA (Wissing e.a. 2023) – sien in beide gevalle Figuur 6. Van die vier gebiede wat in dié studies saam in een kluster (die linkertak) voorkom, naamlik Oos-Kaap, Matzikama en Delft, kom die drie onderstreeptes ook in die linkertak in die 2023-ondersoek voor. Aan die regterkantste hooftak van beide boomdiagramme oorvleuel Promosa, Kakamas, Gobabis en Bergmanshoogte. Dit is dus slegs Springbok, Robertson en Suid-Kaap wat uitval. Hierdie bevinding onderstreep die waarde van ’n meer beperkte studie van ’n enkele vokaal teenoor ’n volledige vokaalstelsel van 15 vokaalsegmente. Veel groter en dieper ondersoeke as dié is natuurlik noodsaaklik voordat min of meer finale gevolgtrekkings gemaak sal kan word. Dit geld veral dat meer gebalanseerde steekproewe ten opsigte van ouderdom, en veral geslag, gevind sal moet word.
Dit hou verder in dat daar gekyk sal moet word na ander spraakgemeenskappe, veral in Gauteng en KwaZulu-Natal, wat nie in hierdie ondersoek aan bod gekom het nie.
Laastens bied die huidige spraakdatastel die geleentheid om meer te wete te kom oor Griekwa-Afrikaans. Ek het die opnamegebied Bergmanshoogte in die Vrystaat, digby Philippolis, in hierdie ondersoek opgeneem, omdat daar ’n noemenswaardige konsentrasie van bruin sprekers van Afrikaans gevind word wat kennelik as (oorspronklik) Griekwa-Afrikaanssprekend gekarakteriseer sou kon word. Soos bekend, word hierdie variant algemeen aanvaar as een van die meer bekendes en ook belangrikes. ’n Indringende studie van die sosiofonetiese karaktereienskappe hiervan is nog nie gedoen nie, en sou ons kennis van Afrikaans in die algemeen, en Bruinafrikaans in die besonder, net ten goede kon kom.
Erkennings
Hierdie artikel is moontlik gemaak met die ondersteuning van die South African Centre for Digital Language Resources (SADiLaR). SADiLaR is ’n navorsingsinfrastruktuur wat deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie van die Suid-Afrikaanse regering gestig is as deel van die South African Research Infrastructure Roadmap (SARIR).
Die skrywer erken die finansiële ondersteuning van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) van Suid-Afrika. Enige menings, bevindings en gevolgtrekkings of aanbevelings wat in hierdie materiaal uitgespreek word, is dié van die skrywer en daarom aanvaar die NNS geen aanspreeklikheid ten opsigte daarvan nie.
Bibliografie
Boersma, P. en D. Weenink. 2022. PRAAT: Doing phonetics by computer. http://www.praat.org (25 Februarie 2023 geraadpleeg).
Coetzee, A.W., P.S. Beddor, W. Styler, S. Tobin, I. Bekker en D. Wissing. 2022. Producing and perceiving socially structured coarticulation: coarticulatory nasalization in Afrikaans. Laboratory Phonology, 13(1). DOI: https://doi.org/10.16995/labphon.6450.
Cohen, J. 1988. Statistical power analysis for the behavioral sciences. 2de uitgawe. Hillsdale, NJ: Erlbaum.
Davel, M. en E. Barnard. 2008. Pronunciation prediction with Default&Refine. Computer Speech and Language, 22(4):374–93.
Davel, M.H. en F. de Wet. 2010. Verifying pronunciation dictionaries using conflict analysis. Verrigtinge van die 11de jaarkongres van die International Speech Communication Association (INTERSPEECH 2010), Makuhari, Japan, 26–30 September.
De Villiers, M. en F.A. Ponelis. 1987. Afrikaanse klankleer. Kaapstad: Tafelberg.
Feinauer, I. en R.H. Gouws (reds.). 2023. Fritz Ponelis en die Afrikaanse taalwetenskap. Stellenbosch: SUNPress.
Gilles, P. en J. Trouvain. 2013. Luxembourgish. Journal of the International Phonetic Association, 43(1):67–74.
Hall-Lew, L., P. Honeybone en J.P. Kirby. 2021. Individuals, communities, and sound change: an introduction. Glossa, 6(1):1–17.
Kotzé, E. 2023. Hoe Germaans is Afrikaans? ’n Vergelykende beskouing. In Feinauer en Gouws (reds.) 2023.
Kraft, M.A. 2020. Interpreting effect sizes of education interventions. Educational Researcher, 49(4):241–53.
Moosmüller, S., C. Schmid en J. Brandstätter. 2015. Standard Austrian German. Journal of the International Phonetic Association, 45(3):339–48.
Pienaar, W. en D.P. Wissing. 2015. PHONAAS: Phonetic Acoustic Analysis System. Noordwes-Universiteit: Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT).
Rawson, K. 2022. Casting off the old Kaross: The Little Namaqualand missions, 1805–1848. Doktorale proefskrif, Universiteit van Kaapstad.
Steyn, H.S. 2003. Practical significance (effect sizes) versus or in combination with statistical significance (P-values): research note. Management Dynamics: Journal of the Southern African Institute for Management Scientists, 12(4):51.
Van Niekerk, D. en E. Barnard. 2009. Phonetic alignment for speech synthesis in under-resourced languages. Verrigtinge van die 10de jaarkongres van die International Speech Communication Association, Brighton, VK, 6–10 September.
Verhoeven, J. 2005. Belgian standard Dutch. Journal of the International Phonetic Association, 35(2):243–7.
Wells, J.C. 1982. Accents of English: Volume 1. Cambridge: Cambridge University Press.
Wiese, R. 2000. The phonology of German. Oxford: Oxford University Press.
Wissing, D. 2019. Perspektief op /ɛ/-verlaging in Afrikaans. LitNet Akademies, 16(1):166–206. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2019/06/LitNet_Akademies_16-1_Wissing_166-206.pdf.
—. 2022. Sosiofonetiese aspekte van die Afrikaans van bruin Suider-Afrikaanse sprekers. LitNet Akademies, 19(3):391–427. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2022/12/LA_j19n3b10_Wissing.pdf.
—. 2023. Die kwaliteit van die lae vokale /a/ en /ɑ/ in Bruinafrikaans : ’n sosiofoniese ondersoek. In Feinauer en Gouws (reds.) 2023.
Wissing, D., A. Baumann en W. Pienaar. 2023. Die vokaalruimtes van Bruinafrikaanse variëteite. LitNet Akademies, 20(3):127–46. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2023/12/LitNet_Akademies_j20n3b1_Wissing-Baumann-Pienaar.pdf.
Eindnotas
1 Vir ’n motivering vir dié benaming, waaroor daar nog nie eenstemmigheid is nie, sien Wissing (2022).
2 Dit is ongeveer ’n gemeenskaplike variëteit van ’n taal wat ontstaan deur die vermenging van verskeie dialekte wat onderling verstaanbaar is. Hierdie term stem breedweg ooreen met die term Standaardvariëteit van Afrikaans (StVA) soos in hierdie artikel gedefinieer.
3 Ek volg die konvensie, ingevoer deur Wells (1982), wat leksikale stelle (lexical sets) gebruik om vokale voor te stel. So stel KIT die Engelse vokaal /KIT/ vir die vokaal in bid of kit voor. Afgesien van die vokaal /e/, wat ek voorstel deur BEES, gebruik ek in dié werk ook REUS vir /ø/, en SES vir /ɛ/.
4 Dit word landswyd by bruin sprekers gehoor, asook by sommige wit sprekers, maar dis onseker of dit tipies is van spesifieke geografiese gebiede, moontlik in die Noord-Kaap.
5 Engels is natuurlik ook ’n Germaanse taal, maar die /e/-vokaal bestaan nie in Engels nie; dit is vervang deur /i/, soos in bv. cwēn, wat queen geword het; vgl. ook fēdan (feed), grēne (green).
6 Die kwessie van stygende of dalende F2-formante word laer af duidelik.
7 Die grafieke in Figuur 1 is gemaak van opnames van persone wat aan my bekend is: Standaardduits (Sabine Zerbian van die Universiteit van Stuttgart); Oostenrykse Duits (Andreas Baumann van die Universiteit van Wene). Vir BA is ’n willekeurig gekose spreker van Springbok, Noord-Kaap se uitspraak gebruik, terwyl ek my eie uitspraak vir StVA gebruik het.
8 Soms word die klank gebroke gehoor; klik dan net weer en weer, totdat dit wel volledig klink.
9 Hierdie berekeninge is gedoen op die klanklêers waarop die formantspore in Figuur 3 gegrond is. Uiteraard kan geeneen daarvan as verteenwoordigend van die betrokke tale geneem word nie. Ek vertrou hier op die oordele van die onderskeie sprekers van dié klanke. (Kyk ook eindnota 7.)
10 Kyk https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2022/12/LA_j19n3b10_Wissing.pdf en https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2023/12/LitNet_Akademies_j20n3b1_Wissing-Baumann-Pienaar.pdf.
11 As standaardformaat van soortgelyke tabelle word akoestiese metings van F2, en soms ook F1, verskaf, asook tweedens in die geval van die egte diftonge en die verglydende lang vokale (waarvan BEES één is). F1-gly en F2-gly is die eindpunte in terme van die duur (lengte) van dié vokale. Die metingseenhede is hertz. N is die aantal geldige metings, en s.a. is standaardafwykings. Soms word in die laaste kolom ook ’n d-indeks gegee. Dit word soos volg bereken:
d = (A – B) / C.
(A – B) is die verskil tussen die gemiddeldes van twee gevalle, A en B; dit word gedeel deur die grootste standaardafwyking van beide: C. Let op dat Cohen waarskynlik die gemiddelde van die twee standaardafwykings bedoel. Ek volg gewoonlik, in navolging van H.S. Steyn van die Statistiese Konsultasiedienste van die NWU, die meer konserwatiewe weg deur die grootste een van die twee te gebruik.
12 Cohen onderskei drie klasse praktiese beduidendheid: Klein: 0,2; Medium: 0,5; Groot: 0,8. Ek verfyn dit soos volg: Geen: 0,0–0,20; Klein: 0,21–0,50; Medium: 0,51–0,80; Groot: 0,81 en groter. Let ook op dat Cohen dit benadruk dat hierdie indelings as ongeveer gesien moet word.
13 Dié gemiddelde waarde word nie in die tabel self gegee nie; dit moes afsonderlik bereken word. Dit geld ook BEES.
14 Sommige van die d-indekse is minusse. Dit beteken hier slegs dat die betrokke gebied se F2 en F2-glywaardes in hierdie geval hoër is as die gemiddeld, wat ’n funksie is van die feit dat die hertzwaardes van die gemiddelde afgetrek is van dié van die gebied – wat hoër is as die gemiddeld s’n; as dit andersom sou wees, wat ook sou kon, sou die d-waarde positief wees. Gevolglik ignoreer ek die minus vir die doeleindes van hierdie bespreking – en ook ander soortgelykes. Dit gaan hier trouens net oor relatiewe verskille, nie absolutes nie.
15 Gegenereer deur Euclidiese afstande tussen persentasies F2-dalings van die 10 gebiede per paar te bereken.
16 A word hier informeel gebruik as afkorting van Afstand.
17 Hy het sy toestemming gegee dat ek sy spraakopnames kon bestudeer en die toepaslike resultate kon publiseer.
18 Ek wil nie hiermee beweer dat dit nie ook elders in die ander nege opnamegebiede waargeneem sal word nie. Met die inligting tot my beskikking lyk dit onwaarskynlik, maar sal nader ondersoek moet word.
- Hierdie artikel se fokusprent is op Canva geskep.
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHET) en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys van goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of approved journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel en kan kwalifiseer vir subsidie deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. |
The post Die middelhoë voorvokaal /e/ van Bruinafrikaans first appeared on LitNet.
The post Die middelhoë voorvokaal /e/ van Bruinafrikaans appeared first on LitNet.