|
Opsomming
Te midde van onderdrukking en lyding bevraagteken gelowiges dikwels God se almag en alomteenwoordige liefde. Pogings ter regverdiging hiervan stel die teodiseeproblematiek aan die orde. Die administrateur van Glo die Bybel (www.glodiebybel.co.za), Daniel, verstrek dit in die vorm van ’n trilemma:
- Hoe kan ’n almagtige, liefdevolle God toelaat dat boosheid bestaan?
- As God so goed en liefdevol is, waarom is daar dan soveel lyding in die wêreld?
- Waarom ly gelowiges soms die vreeslikste dinge?
Luidens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal is die konsep afgelei van die Grieks theos (god) en dike (reg). Vir veral bruin en swart gelowiges was die teodiseevraag gedurende die apartheidsera ’n voortdurende kwelling, soos blyk uit stemme in die vorm van Afrikaanse gedigte, Afrikaanse dramatekste, aforismes, die skilderkuns en liedere wat hier onder die loep geneem word.
Die doel van hierdie artikel is om die godsdienstige ondertone van verset vanuit ’n sistematies-teologiese oogpunt te ontleed. Gustavo Gutiérrez (1973:11) verduidelik as volg: “Christian faith is – at least ought to be – real charity, action, and commitment to the service of men (sic). Theology is reflection, a critical attitude. Theology follows; it is the second step”. Metodologies impliseer dit dat die wyses waarop lydendes self die vraag na en klag teen God artikuleer, volstrek ernstig opgeneem moet word.
Ten slotte word “politieke gebede” krities bekyk. Die apartheidsbeleid, met spesifieke verwysing na die rol van die Gereformeerde tradisie vanaf 1652, is die historiese ruimte waarbinne die teodiseeproblematiek hier te berde gebring word. Benewens die worsteling met die teodiseeproblematiek tydens apartheid, hetsy prontuit of subtiel, het dit binne verskillende religieuse tradisies plaasgevind. Ek kies enkele vertolkers van elke genre en maak ook van video-opnames, afdrukke van kunswerke en YouTube-video’s gebruik.
Trefwoorde: Afrikaanssprekendes; apartheid; gebede; geloof; godsdienstig; kunste; lyding; onderdrukking; ondertone; protes; regverdiging; Swart Bewussyn; teodisee
Abstract
God, suffering and voices of protest
In the midst of oppression and extreme suffering, believers often question God’s omnipotence, omnipresence and loving presence. Their situational questioning constitutes the theodicy problem – a term comprising two Greek words: theos (god) and dike (justice). John Bowker (1980:81) formulates the problem as follows:
In its classical form, if God is all-loving he would surely not be able to tolerate the appalling suffering that is evident in the created order; and if he is almighty, he would be able to do something about it. God turns out to be impotent or deficient in love, or more simply, so far as humans are concerned, non-existent. The problem was raised by Paul himself, and it has remained central ever since.
The administrator of Glo die Bybel, Daniel (www.glodiebybel.co.za), defines it in the form of a trilemma:
- How can an all-powerful, loving God allow evil to exist?
- If God is so good and loving, why is there so much suffering in the world?
- Why do believers sometimes suffer the most terrible things?
For people of colour the theodicy question became acute during the apartheid era. They had experienced life under that system as an onslaught on their belief because the ruling political party purported to be Christian. Justifying God as still being all-powerful and loving was therefore an antidote for their crisis of faith.
The purpose of this article is to understand the religious overtones of these voices from a systematic-theological point of view. Gustavo Gutiérrez (1973:11) explains as follows: “Christian faith is – at least ought to be – real charity, action, and commitment to the service of men (sic). Theology is reflection, a critical attitude. Theology follows; it is the second step”. Methodologically this implies that the ways in which suffering people themselves articulate the question of and complaint against God, must be taken seriously.
The apartheid policy, with specific reference to the role of the Reformed tradition from 1652 onwards, is the historical context within which the theodicy question is brought here to the fore. In addition to grappling with the theodicy issue specifically during apartheid in blunt or subtle ways, it took place within different religious traditions. Voices in the form of Afrikaans poems, drama texts, aphorisms, art and songs are explored here. I choose a few interpreters of each genre and also make use of video recordings, prints of artwork and YouTube-videos. Finally, “political prayers” are viewed critically.
Life,
How often have we yearned to own you
to feel you in our dry bones
crawled on fours in prayers heart-rending
and called, oh Lord, give us life.
Despair,
no, we shall not
whether they call us communists or ban us
because we know our Lord lives,
and He says: I live, thou shalt live.
Thus Ntoane (1983:2) articulates his belief in a life-giving God as caring in the midst of the reality of suffering and despondency. But still the subtext arises: How can God allow believers to suffer an existence of desperation? As will be shown below, the theodicy question constitutes a core element of South African “struggle literature and art”. However, it is necessary to say something more about the historical and theological context of that development.
Racial division had already been precipitated in the Reformed state church. Adonis (1982:22,193–206) states in his doctoral dissertation, Die afgebreekte skeidsmuur weer opgebou, that after the Khoi woman, Krotoa (Eva), was baptized in 1662, the church did little or no organized missionary work. After all, it stood under the control of the United East India Company, which focused on profiteering. Reggie Nel (in Carstens and Le Cordeur 2016:62) argues that the company’s objective was to serve the economic interests of the Netherlands and broadly Europe. The role of social relations, as well as culture and religion, was seen as merely functional.
Baptized Khoi-Khoin and slaves were indeed taken up and served in the church, but were forced to sit away from their masters, at the back or on the balcony. Their inferior status in society eradicated the element of equality contained in Christian baptism. Ecclesiastical separation was therefore a precursor to apartheid. From 1806–75, both the Dutch Reformed Church (DRC) and the Anglican Church stood under the authority of the British colonial government.
Adonis (1982:56) notes that already at the DRC’s synod of 1824, it was decided that a separate office for missionaries would be established. It finally led in 1857 to the decision, based on some members’ supposed weakness, that a separate building of worship for “the heathens” became necessary. Nel (in Carstens and Le Cordeur 2016:65) states that skin colour and other phenotypic features were thus merged in a quasi-theory in order to justify and perpetuate the economic exploitation of indigenous people by European colonial powers.
As examples of how some poets, playwrights, artists, songwriters and theologians had wrestled with the theodicy question, I evaluate the work of Adam Small, Peter Snyders, Patrick Petersen, Ronald Harrison, Willie Bester, Gibson Kente, John Knox Bokwe, Allan Boesak and Desmond Tutu. Kente’s musical drama, How long? (1973), powerfully portrays our theme (https://www.youtube.com/watch?v=fKlES8Y5vjg).
How long must we suffer this way, o Lord
How long all this misery each day, o Lord
How long the tears
How long the fears
Tell me, Lord, how long?
Lord – how long?
Why pick on me
when I’m hopeless and down
why pick on me
why all the suffering and pain
How long must I pray
till I’m old and grey?
Tell me, Lord, how long.
During the eighties Allan Boesak called for a day of prayer for the downfall of the apartheid regime. The late Archbishop Desmond Tutu confronted the current government on 5 October 2011: “I’m warning you out of love, I’m warning you like I had warned the Nationalists … one day we will start praying for the downfall of a government that misrepresents us … the defeat of the ANC government.” (YouTube: “Tutu – ANC government worse than apartheid”, https://youtu.be/A_12Q4kC3Qg?si=r5UOxpyCxY3eyXop)
Keywords: Afrikaans speakers; apartheid; arts; Black Consciousness; faith; justification; oppression; prayers; protest; religious; suffering; theodicy; undertones; vindication
1. Inleiding
Life,
How often have we yearned to own you
longed to feel you in our dry bones
crawled on fours in prayers heart-rending
and called, oh Lord, give us life.
Despair, no we shall not
whether they call us communists or ban us
because we know our Lord lives,
and He says: I live, thou shalt live.
So verwoord Ntoane (1983:2) sy geloof in die lewegewende God as sorgsaam te midde van die werklikheid van moedeloosheid en onderdrukking. Maar reeds hier duik die vraag op: Hoe kan die lewegewende God toelaat dat gelowiges ’n bestaan van “dry bones” en desperaatheid voer? Hierdie vraag vorm deel van ’n veel meer omvattende probleem. Te midde van onderdrukking en lyding bevraagteken gelowiges dikwels God se almag en alomteenwoordige liefde. Pogings ter regverdiging hiervan stel die teodiseeproblematiek aan die orde. Die administrateur van Glo die Bybel (www.glodiebybel.co.za), Daniel, verwoord dit in die vorm van ’n trilemma:
- Hoe kan ’n almagtige, liefdevolle God toelaat dat boosheid bestaan?
- As God so goed en liefdevol is, waarom is daar dan soveel lyding in die wêreld?
- Waarom ly gelowiges soms die vreeslikste dinge?
Soos hier onder aangetoon sal word, vorm die teodiseevraag ’n kernelement van Suid-Afrikaanse versetliteratuur en -kuns. Vir veral bruin en swart gelowiges was die teodiseevraag gedurende die apartheidsera ’n voortdurende kwelling. Stemme in die vorm van Afrikaanse gedigte, Afrikaanse dramatekste, aforismes, die skilderkuns en liedere word hier onder die loep geneem.
Dit is egter nodig om iets meer oor die historiese en teologiese konteks van hierdie kuns te sê.
2. Historiese en teologiese konteks
Rasseverdeling het ook in die Gereformeerde staatskerk neerslag gevind. Adonis (1982:22,193–206) meld in sy doktorale verhandeling, Die afgebreekte skeidsmuur weer opgebou, dat nadat Krotoa (Eva) in 1662 gedoop is, die kerk weinig of geen georganiseerde sendingwerk gedoen het nie. Dit het immers onder die beheer van die VOC gestaan, wat op winsbejag gefokus het. Reggie Nel (in Carstens en Le Cordeur 2016:62) stel dit so:
Hierdie maatskappy se oogmerk aan die Kaap was dus sonder meer kommersieel en die rol van sosiale verhoudinge, asook kultuur en godsdiens is gesien as funksioneel – ’n vennootskap ten einde hierdie ekonomiese belange van die Nederland en breedweg Europa, te dien.
Gedoopte Khoi-Khoin en slawe is wel in die kerk opgeneem en bedien, maar is gedwing om weg van hul base, agter of op die balkon te sit. Dat die doop ’n bevrydingselement vir broers en susters in Christus bevat het, het vanselfsprekend nie met hul minderwaardige status in die samelewing gestrook nie. Vanaf 1806–75 het beide die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) en die Anglikaanse Kerk onder die gesag van die Britse koloniale regering gestaan.
Alreeds by die NGK se sinode van 1824 is besluit dat ’n afsonderlike amp vir sendelinge naas die leraarsamp ingestel sou word. Die gevolg (1982:56) was dat uiteindelik in 1857 besluit is om aparte kerke “… ten gevolge van de zwakheid van sommigen, de bevordering van de zaak van Christus onder de Heidenen … hare Christelijke voorrechten in een afzonderlijk gebouw of gesticht genieten zal”. Nel (in Carstens en Le Cordeur 2016:65) redeneer: “Velkleur en ander fenotipiese kenmerke is dus in ’n kwasiteorie saamgevat ten einde die ekonomiese uitbuiting van die Europese (koloniale) moondhede te regverdig en bestendig.”
3. Versetpoësie
3.1 Adam Small
Die vyftiger- en sestigerjare was nogmaals ’n traumatiese tydsgewrig, veral na sowat vyftig jaar van geweldlose verset in navolging van Mohandas K. Gandhi se ahimsa-beginsel van Satyagraha. Die oorskakeling na aggressie het na die Sharpeville-gebeure van 1960 ’n aanvang geneem, naamlik in die gedaante van die Pan Afrikaanse Kongres (PAC) se militêre vleuel, Poqo (“Ons doen dit alleen”), en die Afrikaanse Nasionale Kongres (ANC) se uMkhonto we Sizwe (“Spies van die Nasie”) in 1961. In dieselfde jaar het Adam Small se eerste letterkundige werk Die eerste steen? verskyn – wat hy opgedra het aan “my mense, die Afrikaners”.
In daardie vroeë periode as ’n Sestiger saam met o.m. André P. Brink, Jan Rabie en Breyten Breytenbach, artikuleer hy sy strewe om as ’n bruin Afrikaner aanvaar te word vanuit die grondidee dat bruin mense kultureel by die Afrikaners tuishoort. Van Wyk (in Willemse, Hattingh, Van Wyk en Conradie 1995:78–89) ondersoek Small se hantering van identiteit. Die digter verwoord op daardie vroeë stadium “…die visie dat die Kleurlinge Afrikaners is en betreur die breuk wat apartheidspolitiek tussen bruin en wit veroorsaak het”. Dit was ook gewaagd om binne die apartheidsmilieu in Kaaps te dig terwyl taalpuriste dit as ’n verdere bewys van die “andersoortigheid van die Kleurling” kon vertolk.
In Klein simbool (1958), ’n versameling van aforismes, is daar ’n interessante verwerking van 1 Korintiërs 13: “Al sou hierdie land myne wees, en al sy godsdiens, maar die liefde ontbreek my, dan is hierdie land myne sonder God.” As ons in gedagte hou dat hy toe maar 22 jaar oud was, is hierdie omdigting werklik merkwaardig. Dit weerspieël toe al ’n persoonlike worsteling met die God van sy voorouers en hierdie land wat reeds ’n dekade lank onder beheer van die Nasionale Party was. Die eerste steen? (1961) begin met “’n Gebed vir land en tyd” op ’n ongenommerde bladsy. Die ongenaakbare behandeling wat sy swanger vrou op ’n apartheidsbus ontvang het, het hom genoop om oor die teodiseevraagstuk te besin:
Vergeef ons die atoombomme wat
ons gemaak het; die totale vernedering
van ons menslikheid deur ons eie hande;
die pyn wat ons aan swanger vroue doen,
ons ydel trots,
bedrog, ons haat en verbittering;
en leer ons onderskei: verhoed dat ons
in diens van wat ons waarheid noem,
nog groter sonde pleeg;
en Heer,
laat ons
vernedering nou die vuurproef van ons
liefde word.
Dat daardie pynlike gebeure in Kitaar my kruis (1987:25–8) in ’n lang gedig, getitel Vryheid, met meer besonderhede herhaal word, toon sy voortgaande bevraagtekening van die liefdesgebod (Matteus 5:43–8) ten aansien van die onmenslikheid van ’n pseudo-Christelike beleid. Die volgende aangehaalde strofes vervat die kernprobleem, naamlik om die vyand lief te hê:
ek vra die kondukteur mag sy maar sit
my God mag sy maar sit
mag sy maar sit!
maar watter voorreg is dit tog is jy nie wit
om te mag sit
God ja
net dit
net dit
om te mag sit
dit maal
maal
maal
mal in my kop
sodat ek siek en mislik voel en naar
ek kyk na haar, my vrou, ek kyk na haar
en God, daar in haar oë is weer die verhaal
waarvan die moontlikheid hier onverklaar
steeds bly:
dit pyn, sê sy, maar ons moet liefhê, ons hét lief, bedaar!
ek antwoord haar
ek antwoord met my oë dit is waar
ek antwoord: ons moet liefhê, ons hét lief, maar dit is swaar
ek vra die kondukteur mag sy maar sit
hy skud die kop
en wys die vinger na die bord, die welbekende bord
“vir blankes net”
o God, U hoogste proef is nie die vuur, maar die vernedering
hoor al ons mense hoor
en hoor jy self, o hart
Gods hoogste proef is nie die vuur, maar die vernedering!
hoor alle vroue, alle kinders, hoor mý kind, hoor goed
hoor goed
Gods hoogste proef is nie die vuur, maar die vernedering
Figuur 1. Potloodskets deur W. Boezak
© Hendrik Theys, 2024
Die literêre kritikus Vernon February (1981:106) tipeer Small in daardie vroeë stadium as “… an anomaly”. In Die eerste steen? al (1961:74) word dit duidelik dat daardie anomalie waarskynlik in die digter se geloofskrisis gesetel was: “Want ek wil hê dat Jesus se boodskap iets vir my moet beteken juis in die kleinste besonderheid van my daaglikse lewe – aangesien ek alleen dáár mens is, en aangesien dit alleen dáár is dat ek my stryd om die ewigheid moet voer.”
Hul vernedering op die bus was persoonlik dog terselfdertyd ’n weerspieëling van die daaglikse ervaring van soveel ander. Hy maan sy ongebore kind dat dit die soort lewe sou wees wat op haar of hom wag. Willemse (in Van der Elst 2017:106) wys daarop dat dit ’n versinnebeelding was van wat miljoene bruin en swart mense daagliks ervaar het. Hy haal Small (1961:108) aan: “… in ons land, Suid-Afrika, moet ons nie-blanke mense afbyt tot op die bitterste pitte van die vernedering.”
Dat die kruis, as die mees sigbare, universele simbool van die Christendom, in Kitaar my kruis (1961) aangewend word, is dus nie toevallig nie. Dié bundel het vele positiewe en negatiewe reaksies ontlok. In die vyfde uitgawe (1987:84) sê Small dat baie kritici nie tussen godslastering en satire kan onderskei nie. As die erkende pionier van digkuns in Kaaps druk hy sy keuse daarvoor as volg uit:
Kaaps is ’n taal, ’n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, dra; die volle lot, hulle volle lewe “met alles wat daarin is”; ’n taal in die sin dat die mense wat dit praat, hul eerste skreeu in die lewe skreeu in hierdie taal, al die transaksies van hul lewens beklink in hierdie taal, en hul doodsroggel roggel in hierdie taal (1987:84).
In 2016 gee sy weduwee, Rosalie Small (in Carstens en Le Cordeur 2016:10), ’n terugblik op Adam die gesinsmens: “… ’n man wat dinge in en rondom die huis doen — borde en koppies was, die vloer vee, tafel dek, kaste en rakke stof, koppies vir koffie en tee vroeg soggens uitsit, en toebroodjies maak vir mense wat by die deur kom en iets vra om te eet.” Haar eggenoot het dus sy medemenslikheid, wat herhaaldelik in sy poësie deurskemer, prakties uitgeleef. Volgens Rosalie Small (2016:8) is die “… neusoptrekkers (enersyds) wat Kaaps as ’n koddigheid sien, of die dwalendes (andersyds) wat daarvan ’n vloektaal maak, mense [is] sonder taal-insig”.
Die oënskynlik Christelike aard van apartheid het dwars in die krop van baie digters gesteek en daarom is menswaardigheid by die tweede Swart Afrikaanse skrywersbyeenkoms in 1995 te Paternoster herhaaldelik beklemtoon. Dat apartheid in 1973 deur die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies as ’n “misdaad teen die mensdom” verklaar is, is onmisbaar vir ’n waardebepaling van alle versetliteratuur tydens daardie tydperk. Petersen (in Willemse 1997:36–7) stel dit as volg:
Die deurlopende tema vir alle swart Afrikaanse digters was die vraag na volledige menswees. Dit is die ding waarmee swart mense geworstel het en tans nog worstel as gevolg van die lyding en die ongeregtigheid wat hulle aangedoen is … Dit was die pyn en lyding wat meegehelp het tot die volle ontwaking van menswees.
Die omhelsing van swartheid as ’n filosofie en tegelykertyd as ’n politiese identiteit het die ruimte geskep vir menswaardigheid wat gedwonge rasseklassifisering vervang het. Daardie radikale wending het by Small ingetree vanweë sy persoonlike kontak met studente en hul filosofie van Swart Bewussyn in die laat 1960’s. In ’n boekhoofstuk, “Zwartzijn contra nihilisme”, verwoord hy dit so:
In de Zuid-Afrikaanse context is zwartzijn het bewustzijn, dat we geweldige geestelijke rijkdomme achter de hand hebben, waar we uit kunnen putten om in elk opzicht sterk te worden, zolang we tenminste er in slagen de ideeën van de blanke uit ons hoofd te zetten en als we in onszelf een einde kunne maken aan de belachelijke gelijkstelling van blank en waardevol. (in Moore 1975:38)
Aansluitend by Small se verset teen ’n beleid wat Bybels vergoeilik is, was sy skerp kritiek teen verkondigers van die Woord wat die liefdesgebod verloën met hul stilswye en verhewe leefstyl te midde van die kroniese armoede wat hulle omring het. Hierdie kritiek kom soos volg in Doemanie (1987:15) tot uitdrukking:
’n proefiet van Jesus djy? ’n proefiet?
djy moet djou palys-hys
djy moet djou aeroplane-motorkar
djy moet daai kamma sêd smaail van djou
en djou tears
moet djou skorrelsvol braai-atappels en vleis?
djou hys ’n woestyn? nou sal mens djou verbeel!
en hoe lyk dit met djou kale pote vi’ daai streamline ding
hoe lyk dit moet djou toga vi’ die vel van ’n kameel?
Hoe lyk dit moet daai skorrelsvol vi’ sprinkane
en wille hiening?
Vanweë bogenoemde gedig se satiriese vorm, kan die erns van sy aanklag gemis word. Dog, wat Small kennelik as verloëning beskou het, kom sterk na vore in sy tweede digbundel, Sê sjibbolet (1963:7), wat in 1963 verskyn het en in 1978 herdruk is:
Huis van God
Die pous ry op ’n goue troon
en hierdie kerkehoof se kop
is gelourier op die halfkroon
en plaaslik preek die predikant
sy volk se aansien des persoons;
o God moet my vergewe
as Hy haat vind in die hoon
waarmee ek nou elke dag pous
én predikant én koning loën,
want die een preek die aansien des persoons,
die een word op die munt getoon,
die een ry op ’n goue troon
– en Christus dra die doringkroon.
Hierdie enigmatiese digter se antwoord aan Ronnie Belcher oor die verkettering van sy godsdienstige opvattings (in Van der Elst 2017:18) was soos volg:
… baie van my satiriese verse … wil die skynheilige vroomheid van mense omdop sodat die waarheid daarvan, deur die spot wat ek daarmee dryf, in die lig kan staan, naak en onverdoesel. Ek wil godslastering aan die kaak stel, net soos ek die onregverdigheid aan die kaak wil stel.
Daar bestaan ’n neiging by sommige literêre kritici om sy ikoniese vers (1987:17) in isolasie aan te haal:
die Here het gaskommel
en die dice het verkeerd gaval vi’ ons
daai’s maar al
As losstaande strofe kan dit egter verkeerdelik as berusting in die wil van God of ’n apatiese aanvaarding van die noodlot beskou word. So ’n oppervlakkige siening verreken nie die volle teks se betekenis nie.
lat die wêreld ma’ praat pêllie los en vas
’n sigaretjie en ’n kannetjie Oem Tas
en dis all right pêllie dis all right
ons kannie worry nie
’n sigaretjie en ’n kannetjie Oem Tas
en ’n lekker meid en lekker anner dinge
oe!
lat die wêreld ma’ praat pêllie los en vas
wat daarvan
wat daarvan
wat maak dit saak?
soes die Engelsman sê it cuts no ice
die Here het gaskommel
en die dice het verkeerd gaval vi’ ons
daai’s maar al
so lat hulle ma’ sê skollie pêllie
never maaind
daar’s mos kinners van Gam en kinners van Kain
so dis all right pêllie dis all right
ons moenie worry nie
Dis eers in die laaste vers dat die godsdienstige ontknoping plaasvind. Die lydendes onder apartheid het geweet dat om as die hedendaagse nasate van Gam geïdentifiseer te word, vals was. Kieskamp (in Bank 1998:163–70) argumenteer dat selfs voor die Europeërs se ekspedisies in die vyftiende eeu, laasgenoemde se kennis van die wêreld Bybels genuanseerd was. Net drie kontinente was aan hulle bekend, naamlik Europa, Asië en Afrika, waaraan Noag se drie seuns, Sem, Jafet, en Gam, toe respektiewelik gekoppel is. Die halfbeskonke bejaarde pa se mitiese vervloeking is welbekend (Genesis 9:24–7): “’n Nikswerd slaaf sal hy wees, in diens van sy broers … Prys die Here, die God van Sem! Kanaän moet Sem se slaaf wees.” Kieskamp (in Bank 1998:169) meen daarom dat die Europese koloniseerders tot die slotsom gekom het: “The ‘children of Cham’ are black and find themselves in Africa, a colour theologically to be associated with satan, sin and darkness, morally with evil, and aesthetically with ugliness.” Met “lat die wêreld ma’ praat pêllie los en vas” verwerp Small daardie onbybelse toepassing.
3.2 Peter Snyders se straatpoësie
Peter James Snyders, gebore in 1939 te Wynberg, het in 1976 sy gedig “Strandfontein” vir ’n kompetisie ingeskryf, maar sy eerste digbundel, ’n Ordinary mens, het eers in 1982 verskyn. Van die begin af toon hy dat hy hom volledig met gewone mense se lot, vreugdes en taal vereenselwig. Aan die woord tydens die Vyfde Versindaba in 2009 (https://versindaba.co.za/2009/12/04/peter-james-snyders-gn-ordinary-mens) te Stellenbosch: “Op die Cape Flats is ons almal ordinary mense, en ons praat ’n ordinary taal. Dié van ons wat Kaaps praat, kan ook soms straight praat. Dié van ons wat straight praat, praat ook dikwels Kaaps. My poësie is straatpoësie, praatpoësie as jy wil, deel van die drama wat plaasvind op die straat.”
Melvin Witbooi (Bylae van Die Burger, 18 September 1982) skryf in sy resensie oor daardie debuutbundel dat die digter “… oor die lewe van ’n sekere verdrukte groep, hoe hulle behandel word”, skryf. “Ek leef in hierdie omstandighede waaroor ek skryf.” Tien jaar later bepeins hy oor Djiesus in ’n Waarskynlike mens (1992:46):
Kô kyk,
hie’s Djiesus innie hokkie,
oulik nè?
maar fooi tog,
tog soe arremoerag.
Daa’s Djiesus, twaalf jaar onnerie pharisees,
vertel vir hulle van truth en freedom,
nogal.
Ja, dis Djiesus,
nog altyd at sea,
maar hy doen nou sy miracles
met kriefdoppies en mieliepap.
Wiet julle,
Djiesus was al weer gecross-question;
hy gan nog eendag
opgeslyt of gebên wid.
Jaa,
dis nog altyd diesélfde Djiesus
wat soe tjank
as hy soe deerie Vrygrond loep
of byrie Crossroads staan.
Daar lê Djiesus;
dis net soes hy gesê het:
hy sal nog eendag vermood wid.
Soos Small, wonder Snyders deurentyd hoe ’n liefdevolle, almagtige God so ’n godslasterlike beleid kon toelaat. Kort voor die aanbreek van demokrasie, dink hy hier na oor hoe lank die “Fariseërs” die kwasi-Christelike beleid Bybels gelegitimeer het, wat anti-apartheidsorganisasies verban het en selfs versetstryders soos Steve Biko vermoor het. Vir hom is dit duidelik dat Jesus, self “arremoerag”, hom met armes vereenselwig. Dis ook tragies dat Vrygrond en Crossroads as voorbeelde steeds bestaan as nalatenskap van daardie postkoloniale bestel.
In ’n e-pos, gedateer 25 Oktober 2023, lig Snyders my in oor sy versameling van 449 ongepubliseerde mymeringe, getitel Kaapse aforismes – die bergblom (1972:3–8), wat ’n dekade voor sy eerste digbundel die lig gesien het.1 Omdat daar geen temas of konteks aangedui word nie, is sy prikkelende gedagtegang moeilik om te volg. Hierdie aforismes kan wel met die Spreuke van Salomo vergelyk word, waar in die nuwe vertaling (1983:584) ter inleiding gestel word dat dit “… bedoel is om mense te onderrig in die regte lewenshouding en lewenskuns”. Iets soortgelyks vind ons in Snyders se private versameling. Meer as sestig aforismes verwys direk of indirek na God, terwyl ander godsdienstig of spiritueel van aard is. Wisselvorme vir God soos “Allerhoogste Verstand” (135); “Universele Teenwoordigheid is gelokaliseer in elke individu” (145); en “Opperintelligensie is in alles en almal” (155) verwys panteïsties na die Allerhoogste se alomteenwoordigheid. Moontlik is dit ook ’n sinspeling op God se teenwoordigheid in die krotbuurte en by verontregtes.
Die skynheilige karakter van apartheid is die oorkoepelende konteks waarbinne hierdie aforismes verstaan moet word: “My persecutor is innie beeld van ’n god” (33); “As God vir my is, kan slegs die goddeloses teen my wees” (54); “Die hand van God is onsigbaar vir die diktator”; “Die valse profeet gebruik standaard truuks wat net ’n halwe oog van sy volgelinge vereis” (75) is miskien ’n bedekte vingerwysing na apartheidsteoloë. Was “God se wet werk deur my” (130) dalk ’n oproep om verset? Nader aan ons kernvraag is die volgende: “Net soos ’n mens nie regtig homself wil vernietig nie, net so ook wil God homself nie vernietig nie” (240) en “Net soos mens homself kan vernietig, so kan God ook homself vernietig” (241). Laastens lyk dit asof die digter die botsende aard van die beleid met God se liefdesgebod duideliker uitspel met die volgende koeplet: “Die Waarheid is ’n paradoks” en “God is ’n paradoks” (391–2). Snyders het oor baie jare heen die gewoonte aangekweek om aforismes spontaan in dagboekies te skryf:
Figuur 2 en 3. Een van Snyders se dagboekies, 1988. “Verstaan begeerte en jy verstaan God.”
Universiteit Stellenbosch Biblioteek; foto’s: W. Boezak
Sy gedig Ek is oek important wat die menswaardigheid van straatveërs beklemtoon, word vir graad 9-leerders voorgeskryf. Die straatveër verteenwoordig almal op wie neergesien word. Hendrik Theys, taalsosioloog en voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, dra dit gereeld vir leerders in agtergestelde woonbuurtes voor.
As al julle geldgatte
julle geld gespendit
en julle bananaskille
innie slootjie gegooi het,
en julle bustikkets
soes confetti gestrooi het,
en julle staain en cooldrinks
opgedrink het,
en julle borrels en blikkies
in ’n gangetjie gesit het,
en julle visgraatbolle
en vrot vrugte
en stukkene boksies
en papiere
rondgegooi het …
dan kom ek
en maakie wêreld weer skoon
soe,
ek is oek important.
3.3 Patrick Petersen
Patrick Petersen was ’n NG Sendingkerkpredikant, Afrikaanse digter en skrywer. Hy is na ’n ernstige motorongeluk op pad na Paternoster op 7 Junie 1997 oorlede. Petersen was toe maar net 46 jaar oud maar het reeds diep spore as digter getrap. Sy nalatenskap sluit die Klein Karoo Nasionale Kunstefees se Afrikaans Onbeperk-toekenning in waarmee hy postuum in 2008 vereer is. Dis pynlik ironies dat sy dood so naby Paternoster was omdat juis daardie Weskusdorpie lewegewend was betreffende sy digkuns en skryfwerk. Twee jaar voor sy tragiese heengaan was “… hy die dryfkrag agter die tweede Swart Afrikaanse Skrywersimposium wat op Paternoster” gehou is (https://af.wikipedia.org/wiki/Patrick_Petersen).
Ek was by die teologiese fakulteit van die Universiteit van Wes-Kaapland die interne eksaminator van Petersen se MTh-verhandeling: “Die etiek van luister – ’n analise van Swart Afrikaanse poësie in die jare sewentig en daarna”. Hy was ook proaktief in die ondersteuning van ander versetskrywers en het in Desember 1988 Prog Uitgewers gestig. Die keuse vir selfpublikasie was sy ontdekking dat uitgewerye onder blanke beheer nie gretig was om radikale swart digters se werk te aanvaar nie. Vir hom was die “… werklikheid waarin die mense leef en oor wie dit gaan, en aan wie die gedigte gerig is dié van meedoënlose brutaliteit” (in Willemse 1997:36–7).
Willemse in Tydskrif vir Letterkunde (45/2, 2008:179) merk op: “Sy geslag was die geslag van apartheid, maar ook die geslag van bewuste opstand.” In ’n sekere sin het Petersen en André Boezak se status as digters en predikante in die NG Kerkfamilie dit pynliker gemaak vanweë hul verbintenis met die apartheidkerk. ’n Mens kan dus die felheid van sy gedig got is doot (Amandla ngawethu:28) verstaan:
got sing sopraan in die n.g.-koor
met ’n noot op kleur
en word dood daar gebulk
ek vra: waar waar is got
want mense eet katte eet modder as patatte
en got salf dominees wat ministers word
maar got bly doot vir onse noot
Willemse som Petersen se bydrae tot versetpoësie in Ons het […] ver versit (2021:294–5) so op: “In die relatiewe kort tyd dat hy as Afrikaanse digter en uitgewer aktief was, het hy ’n spoor nagelaat waarin die hunkering na politieke vryheid, die stryd teen verontmensliking, die ywer vir gelykberegtiging en die noodsaak vir die verligting van maatskaplike nood deurlopend nagespeur kan word.”
4. Straatteater
Die term “straatteater” moet net soos “straatpoësie” verstaan word as ’n vereenselwiging van skrywers met die gewone lewe van veral die mense op die Kaapse Vlakte. Die verskil is dat Small se bemoeienis simpatiek was (waarskynlik vanweë sy sosiale status), terwyl Snyders s’n deurleefd was. Van Wyk (in Willemse 1997:81) poneer die kritiese stelling: “Hierby kan ook die stylfiguur van die Kaapse vriend – daardie buikspraakverhouding van Small met die Kaapse Vlakte-mense gereken word.” Beide is egter literêr eksemplaries van weerstand teen die apartheidsteologie te midde van omringende vrees of apatie. Kavanagh beklemtoon in South African people’s plays (1981:ix) die belangrikheid van daardie genre as voertuig van verset: “Nowhere is this vigorous capacity to fight back and forge an independent personality more in evidence than in the people’s culture, and in its theatre.”
Schapera (1965:400–5) wys daarop dat die Khoi-San, in nabootsing van diere, allerlei gebeure gedramatiseer het. Millennia later het post-Soweto teater ’n direkte bydrae tot die politieke bevryding van die onderdruktes gelewer. Opsommend benadruk Kavanagh (1981:xii): “It is this industrialized proletariat that gave birth to a new, urban, popular tradition of the theatre.” Drama was dus diep gewortel in Afrikakultuur, wat later ’n integrale deel van verset geword het.
4.1 Adam Small
Hoewel Small se drama Krismis van Map Jacobs (1983) wat oor bendegeweld handel, vandag vir matrikulante voorgeskryf word, bly sy eerste een, Kanna hy kô hystoe (1965), sy magnum opus. Joanie Galant-hulle wat oor huishoudelike geweld handel, verskyn in 1978 en The orange earth in 1984. Le Cordeur berig op 29 Maart 2012 op LitNet (https://www.litnet.co.za/waarom-kla-oor-adam-small-se-hertzogprys) dat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns pas die Hertzogprys aan Adam Small toegeken het vir sy drama-oeuvre. Kanna hy kô hystoe is spesiaal vermeld omdat dit “… kop en skouers uitstaan as ’n hoogtepunt in die Afrikaanse dramatiese kuns”.
In Van der Elst (2017:11) haal Erika Terblanche Small woordeliks aan: “My pa … het vir daardie stowwerige mense van die plaas kerk gehou … En hy het hulle opgedra aan God en wanneer hy met God vir hulle ingestaan het, het ’n wonderlike ding gebeur – en het hulle dit besef. Dit was nie nodig om vir God báás te sê nie.” Hy self was streng Christelik grootgemaak, beide in die Gereformeerde en Katolieke tradisies. Dit is duidelik waarom hy so ’n fyn aanvoeling vir die geloofsuitinge van gemarginaliseerdes kon hê.
Toe ek in 1966 as ’n eerstejaarstudent Geskiedenis van die Wysbegeerte by Adam Small as vak geneem het, het sy nederigheid en stille waardigheid my getref – heeltemal onbewus dat sy eerste drama reeds gepubliseer was. Daardie waardigheid, volgens Terblanche, was duidelik te bespeur toe sy drama in Oktober 1974 in die Nico Malan-teater te Kaapstad opgevoer is. Hy het die uitnodiging om die openingsaand by te woon, van die hand gewys “… omdat die stuk, wat deur ’n bruin man oor bruin mense geskryf is, opgevoer word in ’n teater waar my mense nie welkom was nie” (in Van der Elst 2017:22).
Daar is geen politieke uitsprake in Kanna hy kô hystoe nie. Die blote feit dat die drama met apartheid as milieu geskryf en opgevoer was, het dit oorbodig gemaak omdat die gehoor die konteks gesnap het. Alreeds tydens die eerste toneel maak die verteller as Stem dit duidelik dat dit ’n verhaal is van “… die eenvoudigstes, die armes wat altyd daar sal wees”. Dis klaarblyklik ’n invoeging van Jesus se uitspraak in Matteus 27:11. Die minimalistiese dekor toon ’n verweerde munisipale huisie en “… ’n los sinkplaat (wat) skuur op ’n verroeste spyker” (1999:9,11). Deurgaans is daar sprake van vrae en gesprekke oor God te midde van hul ellende. Heel eerste is Jakop, die straatprediker, aan die woord.
Die wêreld se manne sit in die knyp
maar Moses het simplie sy stok gegryp
en geskrou op die volk
en geloep moet die volk
onner die vuur en wolk
en Moses was ’n hakkelaar
ja Moses was ’n stamelaar
en Moses was ’n moordenaar
maar God was in sy elke aar
O waar
waar
waar is Moses?
Willemse (in Van der Elst 2017:1 76) merk op: “Die ‘O waar is Moses’-lied is belangrik omdat dit ’n verband vestig tussen Kanna en die Bybelse Moses.” Uiteindelik word alle hoop op Makiet se “welfare-kind”, wat oorsee verder kon studeer, geplaas om hul redder te wees (Small 1999:9). Wat opval is die refrein oor God se goedheid (1999:34–5):
Jakop: Ek is die ôriekel van die Here!
Kanna: God práát, luister, het Jakop vir hulle gesê.
Jakop: Vrinne, God práát, lyster! Lyster!
Kanna: God is genadig, luister.
Jakop: Die Here, Hy’s genadig, lyster! Vrinne, lyster!
Kanna: God is goed.
Jakop: Die Here, Hy’s baie goed! Geloef julle dit dan nie?
Kanna: God gee ons brood.
Jakop: Kietie.
Kietie: Dja Jakop?
Jakop: Die Here, Hy’s genadig. Glo jy dit?
Kietie: Dja Jakop. [Stilte]
Jakop: Die Here, Hy’s goed. Glo jy dit?
Kietie: Dja, ek glo dit, Jakop. Ek glo …
Hierdie konstante herhaling van inhoudelik dieselfde vraag herinner aan Jesus se herhaalde vraag aan Petrus: “Het jy my waarlik lief?” (Johannes 21:15–7). Die dissipel se vroeëre verloëning (Matteus 26:69–75) het sy bevestigende antwoorde weerspreek. Iets soortgelyks blyk in die bogenoemde gesprekke van die straatprediker met Kanna en Kietie, nie as verloëning nie, maar as vertwyfeling. Oor die half-blinde Makiet sê Rosalie Small (in Carstens en Le Cordeur 2016:7):
Ek meen die gunstelingkarakter vir hom (Adam) in sy werk blý die ou vrou Makiet, seker vanweë haar eerlike eenvoudigheid-in-armoede en haar onvernietigbare geloof in mense, die lewe en God: “Die Here Sy genade is maar hard. Maar Hy’s darem genadig oek!”
Juis omdat hulle hul geloof in God se goedheid en genade herhaaldelik en luid bely, word hul weifeling egter ontbloot omdat die onreg intussen onverbiddelik voortduur. Dit skemer veral deur in die frase “Sy genade is hard”. Na die afsterwe van haar geliefdes, merk ’n moedelose Makiet op: “Die jare hulle is hard, Kanna. Maar dis mos soes die Here ’n mens vergewe, dis soes die Here antwoord as ’n mens bid … Die Here Sy genade is maar hard. Maar Hy’s darem genadig.” Dis daardie geloofsonsekerheid oor God se genade te midde van sinlose lyding wat die teodiseeproblematiek grondliggend definieer.
Willemse (in Van der Elst 2017:171) wys op sekere tekortkomings toe in 1989 en 1994 Kanna as ’n radiodrama opgeneem is, soos byvoorbeeld die gebrek aan meelewing omdat die karakters en hul liggaamstaal nie gesien kon word nie. Sekerlik was dit die geval met Jakop en sy tipiese gebare van straatpredikers. In “Doemanie” het ons Small se kritiek teen welgestelde predikante verneem, maar in die Jakopkarakter is iemand wat saam met die gemarginaliseerdes leef en ly (1999:7). Willy Martin (in Van der Elst 2017:212) verwoord die ingesteldheid van die dramaturg as volg:
Als vertaler stond ik voor een totale andere uitdaging by het gedicht “Doemanie”. Dat gedicht is inderdaad in een uitgesproken spreektalig register geschreven: een soort dialoog tussen de spreker en de dominee, waarbij alleen de eerste tot de tweede spreekt, spottend, verontwaardigd, maar nooit sarcastisch.
4.2 Peter Snyders
Dis interessant dat Snyders éérs bekendheid verwerf het as ’n toneel- en liedjieskrywer, voordat hy as 43-jarige sy eerste digbundel gepubliseer het. In die sewentigs is sy dramas soos Voor dit gebeur en Lied vir Lisa op verskeie kunstefeeste en in teaters soos die Nico Malan en Baxterteater opgevoer. Ander verhoogdramas soos Min genade, Elke ou storie en Political joke is deel van sy pennevrug. Vir Snyders is die rapport tussen die dramaturg en die gehoor van wesentlike belang. By die eerste Swart Afrikaanse skrywersimposium stel hy dit:
Die doelwit van ons drama is altyd oorheers deur ’n subtiele intensie, boodskap, opheffing en bewusmaking. Dit geld selfs vir die religieuse dramas … Dit slaan dan oor tot protes. Maar wat help protes dan as dit lyk asof ons ons koppe teen ’n muur stamp? Eerstens voel die gehoor versadig oor die feit dat oor hul noodlot geskryf word en dat dit opgevoer word; dat iemand verstaan; dat iemand bewus is. En dit, in die tradisie van Aristoteles, lei tot ’n soort van katarsis. Na ’n opvoering, waarmee die gehoor hulle vereenselwig het, gaan hulle huistoe. Tydelik gesuiwer. (in Smith, Van Gensen en Willemse 1985:94–5)
By die tweede Swart Afrikaanse skrywersimposium teken Snyders die skrywer as ’n waghond:
Uiteindelik is dit taal wat die stryd veg teen die maghebbende geskiedenis, kultuur en taal. Dit plaas die skrywer in die loopgrawe van enige stryd. Hy moet sy groep se presiese posisie in die algehele stryd ken. Hy moet ook presies weet wie hy verteenwoordig. Hy moenie gatkruip voor die heersers vir boetie-boeties ten koste van sy groep en sy taal nie. (in Willemse 1995:143–5)
Na die Vyfde Versindaba in 2009 te Stellenbosch vertel Willem Fransman dat die jong digter eers eenmanvertonings “asemhaal-naby” in die sitkamers van mense op die Kaapse Vlakte gehou het, wat toe sy “sitkamer-dramas” gedoop is. In sy onderhoud met Fransman merk Snyders op dat Kaaps vir die digter ’n besondere groepsidentiteitsmerker is:
Onse Kaapse mense, ons lag mos vir alles, al sal party sê dit issie so nie. Ek roep dit ons lagmag – wanneer jy magteloos is, is al wat jy oor het, jou lag. Lag is ons kulturele wapen; jy kan iemand doodlag. Dis die wonderlikste manier om te sterf! En Kaaps is my lagtaal. Dis die gees waarin ek my gees voordra. (https://versindaba.co.za/2009/12/04/peter-james-snyders-gn-ordinary-mens)
5. Beeldende kuns
5.1 Ronald Harrison
Damian Samuels verhaal dat die regering in 1962 The Black Christ verban het (www.chrflagship.uwc.ac.za/media/film/the-black-christ). Dit is ’n aangrypende skildery deur Ronald Harrison, met Zoeloehoofman Albert Luthuli wat, soos die gekruisigde Christus, geweldloos verset teen ’n bose bestel gebied het. Luthuli is immers in 1960 met die Nobelprys vir Vrede vereer. Die belangrikste argitek van apartheid, eerste minister dr. Hendrik Frensch Verwoerd en sy minister van justisie, B.J. Vorster, word hier deur Romeinse soldate, wat die kruisiging voltrek, versinnebeeld. Dat ’n swart persoon hier gekruisig word is nie toevallig nie, omdat hy al die onderdruktes verteenwoordig. Links staan Jesus se moeder, Maria, en agter haar verteenwoordig Johannes, die geliefde dissipel, die Messias se volgelinge (Johannes 19:25–7). Hier word die skynheiligheid van apartheid, wat eufemisties ook afsonderlike ontwikkeling genoem is, ontmasker.
Na die verbanning van The Black Christ het verwikkelinge daaroor intens geraak. Volgens Samuels het dit op ’n unieke wyse menslike lyding uitgebeeld, “… but the state viewed it as blasphemous and subversive ...”. Daarna het die Londense Internasionale Verdediging- en Hulpfonds (IDAF) dit uitgesmokkel en vir ses jaar lank in Europa vertoon. Dit het blykbaar derduisende pond vir politieke gevangenes en hul families ingesamel. Na 1994 is ’n soektog geloods en is ontdek dat ’n menseregteprokureur, Julius Baker, dit 30 jaar lank in selfopgelegde bannelingskap bewaar het.
Harrison, met wie ek eenmaal ’n gesamentlike uitstalling kon deel, het in 2019 gesterf. Hierdie kunswerk, wat vandag in die Suid-Afrikaanse Nasionale Galery te siene is, het sy naam as gerekende Strugglekunstenaar verewig.
Figuur 4. The Black Christ (1962) deur Ronald Harrison
Ondertekende afdruk geskenk aan W. Boezak; foto: W. Boezak
5.2 Willie Bester
Willie Bester word vandag nasionaal en internasionaal as een van ons land se grootste versetkunsskilders en -beeldhouers erken. Vanaf sy eerste, kontroversiële uitstalling in 1982 toon hy duidelike weerstand teen die heersende sosio-ekonomiese en politieke bedeling. Vir ’n beter begrip daarvoor moet sy armoedige grootwordjare in Montagu in ag geneem word (https://en.wikipedia.org/wiki/Willie_Bester). Omdat sy pa ’n Xhosa was en sy ma ’n bruin persoon, kon hulle in die vroeë vyftigs nie ’n geskikte woning bekom nie en moes hulle noodgedwonge in mense se agterplase bly. Hoewel hy Afrikaanssprekend was, het die verwerping deur familie aan moederskant (omdat sy pa ’n swart man was) ’n blywende letsel gelaat. Boonop was daar voortdurend treitering deur wit plaasboere en die polisie. Hy het dus al sy opgekropte gevoelens in sy kuns verbeeld.
As ’n deeltydse kunsstudent het hy in 1986 in die Kaapse Gemeenskapskunsprojek ’n perfekte tuiste gevind. Sy collages bestaan uit olie- en akrielverfwerk, stukkies metaal en hout, uitgeskeurde koerantberigte, boekblaaie, ou koeldrankblikkies, ensovoorts, wat sy kenmerkende nis geword het. Sonder ompad het hy sy eerste, selfverklarende kunswerk Gedwonge verskuiwing genoem, wat die tragiese sosio-ekonomiese gevolge van die Wet op Groepsgebiede (no. 41 van 1950) uitbeeld.
In ’n video-opname by sy huis te Kuilsrivier, gedateer 24 Oktober 2023, verduidelik Bester waarom hy godsdienstige inhoud aan vele van sy kunswerke gee. Dis opmerklik dat hy een van sy vroegste skilderye Die Bybel getitel het. Hy self is ’n Christen en die Bybelse regverdiging van apartheid het hom ontstel. Eerstens is die kunswerk Kakebeen (https://es.pinterest.com/pin/458452437053105082) hier onder bespreking. Sentraal is ’n predikant met uitgestrekte hande wat die status quo seën voor die ou Suid-Afrikaanse vlag as magsimbool. Onder, as deel van hierdie sentrale posisionering, is twee vroue wat vir genesing van ’n sieke bid. Agter hierdie vromes is sendelinge besig om inheemse mense, wat hul Afrikagodsdiens beoefen, tot die Christendom te bekeer, terwyl die res van die skildery die omringende ellende vertoon.
Figuur 5. Kakebeen deur Willie Bester
Bester verduidelik in ’n video-opname:
Die skildery gaan oor die nadele van kolonialisme, die groot leuen van die sogenaamde Christelikheid wat eintlik die fondasie is van kolonialisme. Die reële houding is dat die wit mense is in dié land geplaas om ons, wat natuurlik hier was, te “tem” as sogenaamde heidene (wys aanhalingstekens met vingers). Maar vir my, wat Christelik grootgeword het op ’n ander level … want my Christelikheid erken enigiemand anders as my gelyke. Nou, die twee clash met mekaar. Daai vorm vir my ’n basis om die contradictions uit te wys in my werke.
Daar is verskeie weergawes van sy beeldhouwerk Trojaanse perd. Dit beeld die weermag se wrede optrede op 15 Oktober 1985 uit toe soldate hulle in ’n trok van die Suid-Afrikaanse Spoorweë versteek het, op ’n gegewe oomblik uitgespring en op jong betogers begin skiet het. Soos die staatsgeweld toegeneem het, het Bester al meer sy oorlogsperde bepak met koeëldoppies en masjiengewere (https://imbaliartbooks.org.za/463-2).
In dieselfde video-opname laat hy hom soos volg uit:
In die vroeë eeue was daar die geval van die houtperd wat geskenk was aan Troje, wat eintlik ’n groot vessel was om ’n land oor te vat en die soldate was binne in hierdie perd en dit het tot groot onstabiliteit in Troje gelei. En deur die eeue heen gebruik … of misbruik een na die ander regering om iets soortgelyks te organiseer. In hierdie geval is dit drie kinders wat in Athlone doodgeskiet was en amper ’n honderd beseer. Dit is eintlik ’n reeks perde wat ek gebou het en ek sit altyd ’n Bybel op die rug.
Benewens die godsdienstige tonele in die voorafgaande skildery, toon die gereelde byvoeging van die Bybel sy worsteling met die teodiseeproblematiek klinkklaar.
Figuur 6. Trojaanse perd III deur Willie Bester
Pienaar en Willemse (1986:3) het heelwat onderhoude met belanghebbendes oor die Trojaanse Perd-gebeure gedurende die noodtoestand in die Kaap gevoer. Hulle kom tot die slotsom dat die regering ’n “nuwe Swart Gevaar-veldtog” geskep het, om sodoende die werklikheid te verdoesel “… dat die chaos in die townships die regstreekse gevolg is” van hul apartheidsbeleid.
6. Liedere
6.1 Liedere van verset
Die woede en verbittering van bruin en swart Suid-Afrikaners het in hul daaglikse vernedering ontspring, en het dikwels tot geloofskrisisse gelei. S.V. Petersen (1979:45) se “Zurück!” maak dit glashelder:
- Ek wou my woorde doop
in gal
om jou te vloek!
- Ek wurg my woorde terug:
dis gal,
ek is geen god…
- Net mens van vlees
en vlam en vuur:
boos my bloed en skreeuend
my hoof…!
God,
as te diep die dorings steek,
help! Help as die rieme van my hart
wil breek!
Die digter se geloofskrisis neem hom tot by die afgrond van ongeloof, waar hy omdraai. Sulke versetpoësie en -liedere het in eeuelange verdrukking ontspring. Phillips (1984:34) is daarom van mening dat die karakter van ’n volk deur volksliedere weerspieël word: “… seit die ersten Weissen im Kapland eintrafen und mit den AmaXhosas zustammenstiessen.” Dít is die Sitz im Leben van uitinge wat in die eerste plek as liedere van verset omskryf moet word. Historiese gebeurtenisse word dan in lirieke en melodieë verwoord. Phillips (34) poneer dat “Lieder begleiten traditionsgemäss Aktivitäten in allen Lebensbereichen, gleichzeitig schaffen sie aber auch die Möglichkeit, selbst in der Unterdrückung Protest hörbar zu machen und der angestauten Wut und wachsendem Zorn Luft zu machen ...”2 ’n Hedendaagse weergawe van “Kill the farmer, kill the boer” is dus hopeloos anakronisties.
How long must we suffer this way, o Lord
How long all this misery each day, o Lord
How long the tears
How long the fears
Tell me, Lord, how long?
Lord – how long?
Why pick on me
when I’m hopeless and down
why pick on me
why all the suffering and pain
How long must I pray
till I’m old and grey?
Tell me, Lord, how long.
Gibson Mthuthuzeli Kente, ’n musikant, dramaturg en komponis van Soweto, se bogenoemde lied is deel van ’n musiekdrama, How long? (1973), wat in townships opgevoer is (https://www.youtube.com/watch?v=fKlES8Y5vjg). Sy eerste dramas, Manana, the jazz prophet (1963) en Sikalo (1966), was apolities van aard (https://en.wikipedia.org/wiki/Gibson_Kente). How long? is egter nie net verban nie, maar die filmweergawe daarvan in 1976 het hom tronkstraf op die hals gehaal. Die lied moet dus binne die destydse sosio-ekonomiese en politieke klimaat verstaan word. Die reël, “why pick on me” (Lord) toon ongeduld met die Skepper. Trouens, die lied kulmineer in ’n aanklag: Is swart mense dan tot lyding uitverkies? Dit herinner aan Snyders se verwytende aforisme: “my persecutor is innie beeld van ’n god” en eggo die klaaglied van die profeet Habakuk (1:2–3):
Hoe lank moet ek om hulp roep
voordat u hoor, Here,
moet ek by U bly kla oor geweld
voordat U red?
Waarom laat U my die onreg sien
wat gedoen word,
waarom kyk U toe
as daar soveel ellende is?
In oud-Israel is poësie aangewend om aan die komende geslagte die epiese verhale en morele waarhede van hul geskiedenis oor te lewer. Digters en komponiste soos Dawid en Asaf moes dikwels die volk na hul godsopvatting terugbring, hoofsaaklik omdat teenspoed as God se wisselvalligheid of onverskilligheid geïnterpreteer is. Die teodiseeproblematiek is menigmaal in klaagliedere, soos Habakuk s’n, aangespreek.
6.2 Liedere van berusting
Soos by vele ander volke vorm musiek, dans en sang onvervreembaar deel van Afrikakultuur. Dit is egter ongelukkig so dat die liturgie van die sendingkerke, insluitend gesange, op ’n suiwer Westerse patroon geskoei was. Die struktuur van die NGK-familie was immers sedert 1857 die morele patroon vir rassegeskeidenheid. Die vraag is dus: Hoe is die kwessie aangaande God en lyding liturgies binne daardie Westers-georiënteerde ruimtes gehanteer? Omdat inkulturasie aanvanklik agterweë gelaat is, was daardie sendinggesange vervreemdend. Blykbaar was die doel om hemelgerigte gesange, wat op die hiernamaals fokus en die harde werklikheid ignoreer, te komponeer. Vergelyk byvoorbeeld Gesang 301 van die NG Sendingkerk se Sionsgesange (1947:321):
- Berus steeds in Gods weë
en in sy wys bestel!
Al loop jou alles teë,
laat dit jou siel nie kwel!
Want Hy wat lug en winde
bestier op hulle baan,
sal seker weë vinde
waarop jou voet kan gaan.
- Sy oog slaan alles gade,
Hy sien ons snood en vrees;
Hy weet wat ons tot skade,
of ons tot heil sal wees.
Wie kan met lis of woede
Gods liefderaad ooit stuit?
Die kwaad werk mee ten goede;
dit kom soos Hy besluit.
Die NG Sendingkerk het in 1994 deel van die nuutgestigte Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGK) geword. Bogenoemde lied is as Gesang 300 in hul Nuwe Sionsgesange (2010:126) opgeneem. In die nuwe weergawe is subtiele veranderinge aangebring, dog met ’n betekenisvolle aksentverskil wat deur hul eie leraars verwerk is.
- Berus steeds in Gods weë
waar Hy ons ook mag lei.
Is ons om raad verleë,
wanneer ons teëspoed kry –
Hy wat die lug en winde
bestier op hulle weg,
is steeds vir raad te vinde!
Soos Hy lei, is dit reg.
6.3 Liedere van bevryding
John Knox Bokwe se bekende lied “Plea for Africa” (Bokwe 1922:28) toon ’n samevoeging van die Christelike geloof en politieke verset. Dat sy liederebundel “Amaculo ase Lovedale” getitel is, wys waar hy sy opleiding ontvang het.3 Vergelyk vers 1 en 4:
- Give a thought to Africa!
’neath the burning sun.
There are hosts of weary hearts,
waiting to be won.
Many lives have pass’d away;
but on swamps and sod –
There are voices crying now,
for the living God.
- Give support to Africa!
has not British gold
been the gain of tears and blood,
when the slaves were sold?
Let us send the Gospel back,
since for all their need,
Those whom Jesus Christ makes free –
shall be free indeed.
7. Strugglegebede
Op 16 Junie 1985 is lands- en wêreldwyd bidure vir die val van apartheid gereël, wat deur duisende bygewoon is. Dit het die owerhede ontstel en soldate is selfs in kerke gestuur om dit stop te sit. Uit Allan Boesak en Charles Villa-Vicencio se When prayer makes news (reds. 1986) word Boesak se woorde voorin gesiteer:
If the rulers will not hear the cries of the people, if they will not change, if they continue to prevent justice, let us pray them out of existence. God will hear our cry … We do not believe in the power of violence, but we do believe in the power of prayer.
Dit is ’n aanhaling uit sy toespraak by die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke se nasionale konferensie in Junie 1984. In die Voorwoord word verklaar dat gebede die uitdrukking van geloof en hoop is binne ’n situasie van brutale onderdrukking. In die Inleiding (1986:15) stel Villa-Vicencio dit prontuit dat die oproep tot gebed vir die val van die regering ’n outentieke Bybelse tradisie is. In ’n onlangse publikasie Parables, politics, and prophetic faith herhaal Boesak sy Evangeliese vertrekpunt (2023:153):
People of faith know that beyond their actions, there is God, in power and in control. That is why, in 1985, we called for a day of prayer for the downfall of the apartheid regime and why churches across the world joined us in those prayers on that day. We were in a struggle against apartheid, on the streets of confrontation every single day. We prayed without ceasing, and we prayed in faith ...
In ’n video-onderhoud op 11 November 2023 maak hy dit duidelik dat sodanige politieke gebede regverdigbaar was en steeds is in die lig van die Evangelie se liefdesgebod. Op 5 Oktober 2011 het wyle aartsbiskop Desmond Tutu die huidige regering gewaarsku: (YouTube: Tutu – ANC government worse than apartheid): “I’m warning you out of love, I’m warning you like I had warned the Nationalists … one day we will start praying for the downfall of a government that misrepresents us … the defeat of the ANC government.” (https://youtu.be/A_12Q4kC3Qg?si=r5UOxpyCxY3eyXop)
8. Slotopmerkings
Sedert 1994 het die lewensomstandighede van miljoene Suid-Afrikaners eerder versleg as verbeter. Kroniese armoede, werkloosheid, korrupsie, huishoudelike en bendegeweld laat gelowiges steeds twyfel aan God se alomvattende liefde en genade. Diskriminasie op grond van ras word nie meer Bybels geregverdig nie, omdat die politieke narratief verander het. Dog, ondanks die status van Afrikaans as een van die twaalf amptelike tale, staan ons moedertaal toenemend onder beleg. Afrikaanssprekendes se stemme van verset het egter nie getaan nie. Boonop word die volle spektrum van variëteite en subvariëteite ingespan – van formele tot Gariepafrikaans. As ’n moeder met vele kinders is sy trots op weg na Afrikaans100. Daardie weerbare inklusiwiteit druk ek in Só glo ons (2016:313) as volg uit:
hortend
sukkelend
is sy gebore
tussendeur gebare
met vreemde kaaseters
wyndrinkers en speserysoekers
al by ons kuste langs
’n basterkind wat net geweet het van kierie
eina! en koekemakranka
en skielik kry sy ’n hupstoot
van vreemdes in kettings
en van nóg wittes
wat eers lekker-bekkig plat praat
maar later al hoër en verder
wégtrek van daai basterkind…
kyk
daar dans sy vandag
’n mooi vrou in pastel én grondkleure
omhul in skerp en sagte geure
en sy ghoema die riel in sokkies
ja, sy ghoema die riel in sokkies
onse reënboogkind
Bibliografie
Primêre bron
Boezak, W. 1985. God, onderdrukking en protes: ’n Ondersoek na ’n kritiese teologie van lyding. Ongepubliseerde doktorale verhandeling in dogmatiek aan die Vrije Universiteit, Amsterdam. Studieleier: Prof. dr. J. Veenhof.
Sekondêre bronne
Adonis, J. 1982. Die afgebreekte skeidsmuur weer opgebou. Amsterdam: Rodopi Uitgewers.
Bank, A. (red.). 1998. The proceedings of the Khoisan identities and cultural heritage conference. Gehou by die Suid-Afrikaanse Museum te Kaapstad, 12–16 Julie 1997. Kaapstad: InfoSOURCE.
Biko, S. 1987. I write what I like. In Stubbs (red.) 1987.
Boesak, A. en W. Griffen. 2023. Parables, politics, and prophetic faith: Hope and perseverance in times of peril. Macon, GA: Nurturing Faith Publishers.
Boesak, A. en C. Villa-Vicencio (reds.). 1986. When prayer makes news: Churches and apartheid – a call to prayer. Philadelphia: The Westminster Press.
Boezak, W. 2016. Só glo ons: die Khoi-San van Suid-Afrika. Kaapstad: Bidvest Data.
Bokwe, J. (red.). 1922. Amaculo ase Lovedale. Lovedale: Lovedale Music.
Bowker, J. 1980. Problems of suffering in religions of the world. Cambridge: Cambridge University Press.
Bybelgenootskap van Suid-Afrika. 1986. Die Bybel: Nuwe vertaling. 4de uitgawe. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.
Carstens, W. en M. le Cordeur (reds.). 2016. Ons kom van vêr: Bydraes oor bruin Suid-Afrikaners se rol in die ontwikkeling van Afrikaans. Tygervallei: Naledi.
Davids, A. 2018. Die Afrikaans van die Kaapse Moslems (verwerk deur H. Willemse). Bellville: Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA).
Elbourne, E. 1992. Early Khoisan uses of Christian mission. Kronos: Tydskrif vir Kaaplandse Geskiedenis, 19(1):3–27.
February, V. 1981. Mind your colour: The “coloured” stereotype in South African literature. Londen: Kegan Paul.
Fransman, W. 2009. Peter James Snyders: G’n ordinary mens. Referaat by die Vyfde Versindaba op 28 November te Stellenbosch gelewer. https://versindaba.co.za/2009/12/04/peter-james-snyders-gn-ordinary-mens (6 Augustus 2024 geraadpleeg).
Giliomee, H. en R. Elphick (reds.). 1990. ’n Samelewing in wording: Suid-Afrika 1652–1840. 2de uitgawe. Kaapstad: Maskew Miller Longman.
Gutiérrez, G. 1973. A theology of liberation. New York: Orbis Books.
Kavanagh, R. 1981. South African people’s plays. Londen: Heinemann.
Kieskamp, A. 1998. The Khoekhoe in Van Riebeeck’s official accounts: Reconstruction of a period (1652–1620). In Bank (red.) 1998.
Krüger, J. 1995. Along edges. Pretoria: UNISA.
Mackier, M., P. Pietersen en M. Titus (reds.). 1988. Aankoms uit die skemer. St. Helenabaai: Prog-Uitgewers.
Martin, W. 2017. Adam Small vertalen: Getuigenis, hommage en naschrift. In Van der Elst (red.) 2017.
Moore, B. (red.). 1975. Zwarte theologie in Zuid-Afrika: Een bundel essays. Baarn: Uitgeverij Ten Have.
Nederduitse Gereformeerde Kerk. 1947. Sionsgesange. 1ste uitgawe. Wellington: NG Kerk-Uitgewers.
Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk. 2010. Nuwe Sionsgesange. Kaapstad: LUS Uitgewers en Lux Verbi.
Nel, R. 2016. Genote, gelowig en geskei – ’n postkoloniale beoordeling van die ontstaan van afsonderlike sendingkerke aan die Kaap, 1652–1881. In Carstens en Le Cordeur (reds.) 2016.
Ntoane, L. 1983. A cry for life. Kampen: J.H. Kok.
Petersen, P.J. 1985. Amandla ngawethu. Genadendal: Morawiese Boekhandel.
—. 1997. Die ongelyke magsverhoudinge in die Afrikaanse letterkunde. In Willemse e.a. (reds.) Bellville: Eerste uitgawe 1997.
—. 2021. Ons het […] ver versit: gedigte, toesprake, onderhoude. Met ’n essay deur Hein Willemse. Vredendal: Prog Uitgewers. Eerste druk 2021.
Petersen, S.V. 1979. Alleenstryd. Goodwood: Tafelberg-Uitgewers.
Phillips, J. 1984. Das Lied im Widerstand gegen die Apartheid in Südafrika: wissenschaftliche Beiträge in Lied und Politische Bewegung. Berlyn: Akademie der Künste der DDR.
Pienaar, H. en H. Willemse (reds.). 1986. Die Trojaanse perd: Onderhoude oor die noodtoestand in die Kaap. Emmarentia: Taurus Uitgewers.
Schapera, I. 1965. The Khoisan peoples of Southern Africa: Bushmen & Hottentots. Londen: George Routledge & Sons.
Small, A. 1958. Klein simbool: prosaverse. Kaapstad, Pretoria: H.A.U.M.
—. 1961. Die eerste steen? Kaapstad: H.A.U.M.
—. 1962. Kitaar my kruis. Kaapstad: H.A.U.M.
—. 1963. Sê sjibbolet. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.
—. 1965. Kanna hy kô hystoe. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.
—. 1975. Zwartzijn contra nihilisme. In Moore (red.) 1975.
Small, R. 2016. Wie is Adam Small? In Carstens en Le Cordeur (reds.) 2016.
Smith, J., A. van Gensen en H. Willemse (reds.). Swart Afrikaanse skrywers: Verslag van ’n simposium gehou by die Universiteit van Wes-Kaapland op 26–27 April 1985. Bellville: UWK Drukkery.
Snyders, P. 1972. Kaapse aforismes van die bergblom. Ongepubliseerde versameling. Toestemming per e-pos verleen op 9 Okt. 2023.
—. 1982. ’n Waarskynlike mens. Greenhaven: Unison Uitgewers.
—. 1985. Swart Afrikaanse dramaturge en hulle ambagte. In Smith e.a. (reds.) 1985.
—. 1988. Aforismes in Huisvrou se dagboek. Bellville: Bel-Kem. Universiteit Stellenbosch Biblioteek, Africana.
—. 1997. Die skrywer as waghond. In Willemse e.a. (reds.) 1997.
Stubbs, A. (red.). 1987. Steve Biko: I write what I like – a selection of his writings. San Francisco, Londen: Heinemann.
Terblanche, E. 2017. Gebore en getoë: ’n Biografiese skets. In Van der Elst (red.) 2017.
Van der Elst, J. (red.). 2017. Adam Small: Denker, digter, dramaturg. Pretoria: Protea Boekhuis.
Willemse, H. 2008. Commendatio: Afrikaans onbeperk – die lewensbydrae van Patrick J. Petersen. Tydskrif vir Letterkunde, 45(2).
—. 2017. ’n Swanger vrou móét staan op die Houtbaai-bus: ’n Literêr-dialektiese lesing van Adam Small se “Vryheid”. In Van der Elst, J. (red.) 2017.
Willemse, H., M. Hattingh, S. van Wyk en P. Conradie (reds.). 1997. Die reis na Paternoster: ’n Verslag van die Swart Afrikaanse skrywersimposium gehou op Paternoster vanaf 29 September tot 1 Oktober 1995. Bellville: Universiteit van Wes-Kaapland.
Witbooi, M. 1982. Jong digter net ’n ordinary mens. Bylae by Die Burger, Saterdag 18 September.
Internetskakels
Die teodiseevraagstuk: http://www.glodiebybel.co.za/teodisee (6 Augustus 2024 geraadpleeg).
Kakebeen: https://es.pinterest.com/pin/458452437053105082 (6 Augustus 2024 geraadpleeg).
Ntsikana: https://www.coursehero.com (6 Augustus 2024 geraadpleeg).
Patrick Petersen: https://af.wikipedia.org/wiki/Patrick_Petersen (6 Augustus 2024 geraadpleeg).
Peter Snyders: https://versindaba.co.za/2009/12/04/peter-james-snyders-gn-ordinary-mens (6 Augustus 2024 geraadpleeg).
Ronald Harrison: http://www.chrflagship.uwc.ac.za/media/film/the-black-christ (6 Augustus 2024 geraadpleeg).
Trojaanse perd: https://imbaliartbooks.org.za/463-2 (6 Augustus 2024 geraadpleeg).
Willie Bester: https://en.wikipedia.org/wiki/Willie_Bester (6 Augustus 2024 geraadpleeg).
YouTube-video’s
Kente, G. 1973. How long? https://www.youtube.com/watch?v=fKlES8Y5vjg.
Tutu, D. AFP News Agency, 5 Okt. 2011. https://youtu.be/A_12Q4kC3Qg?si=r5UOxpyCxY3eyXop (6 Augustus 2024 geraadpleeg).
Video-opnames
Allan Boesak oor When prayer makes news op 11 Nov. 2023 te Kaapstad.
Peter Snyders, Ek is oek important. Voordrag deur Hendrik Theys op 31 Okt. 2023 te WAT-gebou, Stellenbosch.
Willie Bester oor Kakebeen en Trojaanse perd III, op 24 Okt. 2023 te Kuilsrivier.
Eindnotas
1 Willem Fransman (2009) skets op Versindaba kortliks Snyders se grootwordjare in Hazendal, na die gedwonge verskuiwing van hul gesin. Dit is langsaan Bokmakierie waar bendegeweld in strate byna ’n alledaagse gebeurtenis was en steeds is in plekke soos Bonteheuwel, Mitchell’s Plein en Valhallapark. Dikwels beland kinders en ander onskuldiges in die spervuur. Snyders gee per e-pos op 6, 7, 14, 23 en 25/10/2023 toestemming vir beide die gebruik van sy ongepubliseerde Kaapse aforismes in die bergblom (1972:3–8) en sy dagboekstukkies, wat in die Universiteit Stellenbosch Biblioteek se Africana is. Snyders het sy eerste kortverhaal op sestien in Engels gepubliseer, totdat hy besluit het om in die moedertaal van die mense in sy omgewing te skryf. Hy het later sy eie uitgewery, Unison, begin. Van sy gedigte is wel in die sewentigs in sekere publikasies opgeneem voordat sy eerste bundel, ’n Ordinary mens, in 1982 vrygestel is. Die afwisseling van erns met humor is kenmerkend van sy styl.
2 Liedere begelei tradisionele aktiwiteite op alle terreine van die lewe, maar skep terselfdertyd ook die geleentheid om protes hoorbaar te maak selfs in die aangesig van onderdrukking om uiting te gee aan opgekropte, toenemende woede.
3 Die eerste Christen-bekeerling van die amaXhosa, evangelis Ntsikana, het soggens sy gemeente vanuit sy hutdeur bymekaar geroep vir gebede. Een van sy liedere het op ’n vindingryke manier begin, naamlik met die nabootsing van ’n kerkklok. Die oorspronklike teks, deur Gabha in die 18de eeu geskryf, waarsku die lidmate oor “die gewoontes van die Europese koloniste … hul hebsug en plundering”. Dit het later as Ntsikana se Klok bekendgestaan (https://www.coursehero.com).
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHET) en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys van goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of approved journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel en kan kwalifiseer vir subsidie deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. |
The post God, lyding en stemme van protes first appeared on LitNet.
The post God, lyding en stemme van protes appeared first on LitNet.