Quantcast
Viewing all articles
Browse latest Browse all 795

Skulderkenningsboetes in die lig van prosedurele geregtigheid en misdaadbeheer

Skulderkenningsboetes in die lig van prosedurele geregtigheid en misdaadbeheer

Delano van der Linde, Departement Publiekreg, Universiteit Stellenbosch

LitNet Akademies Jaargang 21(2)
ISSN 1995-5928
doi.org/10.56273/1995-5928/2024/j21n2e4

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Skulderkenningsboetes ingevolge artikel 57 van die Strafproseswet 51 van 1977 stel ’n vinnige en gerieflike proses vir sowel die Staat as die beskuldigde daar. Die Staat se bewyslas word verlig omdat daar geen getuienis deur middel van ’n formele verhoor aangebied hoef te word nie. Beskuldigdes ontwyk die moontlikheid om vir die duur van hul verhoor in aanhouding te wees, asook die verspilde tyd en koste wat met ’n strafverhoor gepaard gaan. Weens hierdie voordele bestaan daar die moontlikheid dat die skulderkenningsboetestelsel ten koste van prosedurele geregtigheid en ten gunste van effektiwiteit gebruik kan word. ’n Herhalende probleem is ’n gebrek aan inligting en kommunikasie deur die polisie wanneer die aard, omvang en gevolge van die betaling van skulderkenningsboetes aan beskuldigdes verduidelik word. Die vernaamste probleem wat beskuldigdes opper, is dat hulle nie behoorlik ingelig is van die feit dat die betaling van die boete tot ’n vorige veroordeling aanleiding sal gee nie. Dit is duidelik uit onlangse regspraak vanuit die Wes-Kaapse Afdeling van die Hooggeregshof1 waar dit blyk dat misdaadbeheer en effektiwiteit ten koste van prosedurele geregtigheid die voorrang geniet. Alhoewel verdagtes wat gebruik maak van skulderkenningsboetes van sekere grondwetlike regte afstand doen (soos die reg tot ’n openbare verhoor), behou hul steeds ’n wye spektrum regte, byvoorbeeld die reg op regsbystand en die reg op stilswye ingevolge artikel 35(1) en (2) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996. Hierdie bydrae ondersoek die statutêre raamwerk oor skulderkenningsboetes en die belangrike rol van die polisie in die verduideliking van die proses, insluitende die gebruik van belangrike voorgeskrewe vorms om die beskuldigdes se grondwetlike regte en gevolge van betaling uiteen te sit. Verder word die moontlike impak van die Wysigingswet op Regterlike Aangeleenthede 15 van 2023 en die Wetsontwerp op Dagga vir Private Doeleindes [B 19B-2020] oorweeg. Beide maak tot ’n mate voorsiening vir die betaling van skulderkenningsboetes sonder ’n gepaardgaande vorige veroordeling teenoor die beskuldigde se naam.

Trefwoorde: misdaadbeheer; prosedurele geregtigheid; skulderkenningsboetes; Strafproseswet 51 van 1977

 

Abstract

Admission of guilt fines in the light of procedural justice and crime control

Admission of guilt fines under section 57 (read with sections 54 and 56) of the Criminal Procedure Act 51 of 1977 (“the CPA”) provide a swift and effective measure to adjudicate a criminal matter. This is true particularly since the State is no longer required to present evidence to prove their case beyond a reasonable doubt. As there is no longer a formal trial, time and cost are both saved for the State as well as the accused. The accused additionally benefits from not being detained pending the outcome of a criminal trial.

Police officials are the primary agents tasked with administering admission of guilt fines. Prosecutors have limited or no involvement in the process but there is judicial oversight under section 57(7) as a judicial officer must examine the prescribed forms and documents before an accused is formally convicted. The forms and documents mostly relate to informing the accused of their constitutional rights under section 35 of the Constitution, including the right to a legal practitioner (and to consult that practitioner); to challenge their arrest in a court of law; their right to silence; their right against coerced admissions and confessions; and the right to be released if the interests of justice permit. Accused persons, axiomatically, also waive their right to a formal trial and therefore to adduce and challenge evidence. The accused, importantly, is required to sign the forms detailing their rights and waived rights. The police are further obliged to explain the accused’s constitutional rights as enumerated in the prescribed form and to ensure that the accused actually understands these rights. As mentioned, only once the judicial officer has examined the relevant documents and found that the process is in fact in accordance with justice, will the accused be duly convicted. Such a conviction, even though it was not obtained through a formal trial, will still constitute a previous conviction in terms of chapter 27 of the CPA. The judicial officer will then be functus officio and the matter will end there unless the matter is reviewed under either section 302 or 304 of the CPA.

Unfortunately, many accused persons do not fully understand the nature, scope and consequences of the payment of an admission of guilt fine. This is often due to the fact that they did not read the prescribed forms properly (or at all) or that the police did not, as they are obliged to do, properly explain the nature, scope and consequences of the payment of the fine to the accused. This is necessary particularly in a country such as South Africa, as a large proportion of the country is not literate. This situation is exacerbated by the fact that there is an inherent power imbalance between the accused and the State; and that the psychological and emotional turmoil of being in conflict with the law further deteriorates a person’s ability to properly explain oneself (which may reveal a possible defence) or understand the process that you are subjected to. Many people also misunderstand the nature of admission of guilt fines as some believe that they are paying bail and others believe that they are not actually convicted of the crime and thus the offence will not constitute a previous conviction. In some cases, this fact was only revealed upon applying for a job or housing.

These issues were highlighted in two recent cases, namely S v Elgin 2022 1 SACR 325 (WCC) and Hoosen v S (412/22) [2023] ZAWCHC 47. In both cases, the accused parties had signed the relevant forms and therefore formally admitted guilt. On review, it was alleged (in both cases) that the accused were not properly informed of the nature, scope and consequences of signing the prescribed forms. The accused in Hoosen alleged that he was under the impression that he had paid bail and only discovered that he had a previous conviction upon applying for a job. The accused in Elgin alleged that she did not properly understand what was occurring as she was on anti-psychotic medication and, due to her anxiety, wanted to be released from custody, and was not presented with any alternatives.

As accused persons are waiving their right to a trial, it must be ascertained that they are fully aware of the nature, scope and consequences of paying an admission of guilt fine. That is the only manner in which they may exercise “strong autonomy”. Admission of guilt fines further pose the risk of not properly balancing crime control and due process. As the former favours effectiveness and the finalisation of matters, proper attention to due process (the constitutional rights of the accused) may be neglected. Police officials should therefore apply the necessary degree of care when communicating with accused persons to ensure that their due process rights are protected – therefore avoiding convictions being overturned on review.

Some recent developments will however change the nature of some admission of guilt fines. The Judicial Matters Amendment Act 15 of 2023 (“the Amendment Act”) and the Cannabis for Private Purposes Bill B 19B-2020 (“the Cannabis Bill”) respectively allow for the payment of admission of guilt fines in certain instances but without such fines constituting a previous conviction. The Amendment Act amends the CPA and creates a framework which permits the Minister of Justice, in consultation with the National Director of Public Prosecutions, to declare certain offences which do not constitute previous convictions upon the payment of an admission of guilt fine. Several factors must be considered under section 57B of the CPA before this is done, including that the offence may not contain an element of violence; may not involve an offence relating to damage to property; and may not involve an offence relating to the physical, psychological or mental well-being of another. The Cannabis Bill, on the other hand, inter alia aims to criminalise certain acts associated with the unlawful use of cannabis. Certain offences, such as using cannabis in public or consuming cannabis in a motor vehicle on a public road, carry only a fine as a possible penalty. Such offences will also not constitute previous convictions. This is a welcome development that also removes the risk of an accused facing consequences that they were not aware of when they paid the admission of guilt fine.

Keywords: admission of guilt fines; crime control; Criminal Procedure Act 51 of 1977; due process

 

1. Inleiding

Skulderkenningsboetes ingevolge artikel 57 van die Strafproseswet 51 van 1977 (hierna “die SPW”) is ’n meganisme wat gebruik word om minder ernstige strafregtelike oortredings vinnig en effektief af te handel. Dit is nie voordelig net vir die Staat sodat hulpbronne aan meer ernstige sake geallokeer kan word nie, maar ook vir beskuldigdes, aangesien dit ’n uitgerekte en duur verhoor uitsluit. Die feit bly staan dat iemand wat só ’n boete betaal steeds formeel skuldig bevind word aan die betrokke misdaad en dat hierdie skuldigbevinding noodwendig as ’n vorige veroordeling ingevolge hoofstuk 27 van die SPW sal kwalifiseer. In hierdie verband het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (hierna “die SAPD”) in onlangse jare voorgeskrewe vorms begin gebruik wat beskuldigdes se grondwetlike regte volledig uiteensit. Hierdie vorms dui ook aan wat die aard en gevolge van die betaling van hierdie tipe boetes is. Die polisie het nietemin steeds ’n verpligting om die beskuldigde ten volle van hul regte in te lig asook om aan hulle die aard en gevolge van die betaling van die skulderkenningsboete te verduidelik.

Die fokus van hierdie bydrae is drieledig. Dit verskaf eerstens ’n oorsig van die statutêre raamwerk rakende skulderkenningsboetes in Suid-Afrika. Tweedens oorweeg dit die impak van die Grondwet2 op skulderkenningsboetes asook die inherente spanning tussen prosedurele geregtigheid (“due process”) en misdaadbeheer waar hierdie boetes uitgereik word. Daar word spesifiek op twee onlangse sake, naamlik S v Elgin3 en Hoosen v S,4 gefokus as voorbeelde van prosedurele en grondwetlike onreëlmatighede. Daar word aan die hand gedoen dat hierdie onreëlmatighede ingesluip het weens ’n strewe na misdaadbeheer en formele geregtigheid in plaas van prosedurele en grondwetlike geregtigheid. Laastens oorweeg hierdie bydrae die verwikkelinge in die skulderkenningsboetestelsel wat deur die Wysigingswet op Regterlike Aangeleenthede 15 van 2023 (hierna “die Wysigingswet”) en die Wetsontwerp op Dagga vir Private Doeleindes [B 19B-2020] (hierna “die Wetsontwerp”) meegebring is.5 Sekere misdrywe of klasse misdrywe sal nou nie meer as vorige veroordelings teen die oortreder se kriminele rekord aangeteken kan word nie.

 

2. Statutêre raamwerk

2.1 Kort oorsig van artikel 57 van die SPW

Skulderkenningsboetes word hoofsaaklik deur artikel 57 van die SPW gereguleer en kan beide met dagvaardings en skriftelike kennisgewings bewerkstellig word. Luidens artikel 57(1)(a) (gelees saam met artikel 54 van die SPW),[6] moet die volgende stappe breedweg gevolg word alvorens ’n skulderkenningsboete deur middel van ’n dagvaarding opgelê kan word. Eerstens, ingevolge artikel 54 van die SPW, moet ’n dagvaarding teen die beskuldigde uitgereik word. Verder moet die klerk van die hof of aanklaer “op redelike gronde” vermoed dat ’n landdroshof, in die geval waar ’n beskuldigde skuldig bevind word, nie ’n boete sal oplê wat die voorgeskrewe bedrag, soos deur die Minister bepaal, sal oorskry nie. Hierdie bedrag is tans R10 000.7 Die dagvaarding moet ook deur die aanklaer of klerk van die hof geëndosseer word. Hierdie endossement moet aandui dat die beskuldigde op die aanklag skuldig kan pleit sonder om in die hof te verskyn. ’n Soortgelyke proses word ingevolge artikel 57(1)(b) (gelees saam met artikel 56 van die SPW) gevolg waar ’n skriftelike kennisgewing deur ’n vredesbeampte aan die beskuldigde oorhandig word. Hier moet die vredesbeampte ook “op redelike gronde” glo dat ’n landdroshof nie ’n boete van meer R5 000 op die beskuldigde sou oplê nie.8

Die beskuldigde betaal dan die boete by die klerk van die betrokke landdroshof of by ’n polisiekantoor. Nadat die beskuldigde hierdie boete betaal het, sal die nodige dokumente na die klerk van die betrokke landdroshof aangestuur word.9 Die aanklagte sal dan in die skulderkenningsregister ingeskryf word, waarna die beskuldigde as “skuldig bevind en gevonnis” geag sal wees slegs indien daar aan die vereistes ingevolge artikel 57(7) voldoen word.10

Artikel 57(7) vereis dat ’n regterlike amptenaar die tersaaklike stukke moet nagaan (“examine”) om te bepaal of die voorafgaande proses aan al die formaliteite ingevolge artikel 57(6) voldoen en ooreenkomstig die reg geskied het. Indien wel, word die beskuldigde dan regtens skuldig bevind aan die relevante aanklagte.11

Nadat ’n regterlike beampte die stukke nagegaan het, is sodanige beampte functus officio, maar daar kan steeds daarna ’n spesiale hersiening ingevolge artikel 304(4) van die SPW plaasvind.12 Op hersiening het die hof dan dieselfde hersieningsmagte as tydens ’n gewone hersiening ingevolge artikel 302 van die SPW.13 In Parsons, met verwysing na Cedras, het die Wes-Kaapse Afdeling van die Hooggeregshof beslis dat daar hoofsaaklik drie beginsels is wat ’n hof by die hersiening van ’n saak waar skulderkenningsboetes betrokke is in ag moet neem.14 Daar word eerstens verwys na billikheid en redelikheid (“equity and fair dealing”) wat ’n hof sou beweeg om regskending (“failure of justice”) te verhoed. Verder sal ingryping deur ’n hof op hersiening geregverdig wees indien daar bewys kan word dat die beskuldigde ’n moontlike verweer het of waar die beskuldigde verkeerdelik skuld erken het.15 ’n Voorsittende beampte mag ook op hersiening beveel dat die skuldigbevinding en vonnis ter syde gestel word en dat die beskuldigde op die gewone wyse vervolg moet word sou sodanige beampte bevind dat die vonnis (met ander woorde die skulderkenningsboete) onvoldoende is.16

Artikel 57 het ten doel om ’n “spoedige en eenvoudige” proses daar te stel waar iemand wil skuldig pleit, maar nie noodwendig deur ’n formele hofproses wil gaan nie – gewoonlik op ’n mindere misdryf.17 Die proses ingevolge artikel 57 verlig verder howe se saaklading omdat die beskuldigde nie voor die hof hoef te verskyn nie en omdat die Staat nie getuienis hoef aan te bied nie.18 Die skulderkenningsboetestelsel moet egter nie deur die Staat misbruik word om skuldigbevindings te versamel en sodoende misdaadstatistieke op te blaas nie.19

2.2 Voorgeskrewe vorms

Persone wat die opsie gegee word om ’n skulderkenningsboete te betaal, staar ’n risiko van onbillikheid in die gesig aangesien daar nie ’n volle verhoor voor ’n voorsittende beampte is nie. Dit kan wees veral omdat die persoon nie die aard en omvang van ’n skulderkenningsboete verstaan nie.

Die SAPD gebruik ’n aantal voorgeskrewe vorms waarin die aangehoudene/beskuldigde se regte uiteengesit word, veral met die doel om bostaande probleme te vermy. Twee vorms word hier kortliks bespreek.

Die eerste vorm is ’n SAPS 14A-vorm, waarin die verdagte se grondwetlike regte uiteengesit word.20 Aangehoudenes word onder andere ingelig dat hulle die reg het:

  1. om ’n regspraktisyn van hul keuse te raadpleeg en dat een op staatsonkoste aan hul voorsien sal word indien hulle nie ’n regspraktisyn kan bekostig nie21
  2. om die regmatigheid van hul arrestasie in ’n hof aan te veg en ontslaan te word indien dit wel onregmatig was22
  3. om in menswaardige omstandighede aangehou te word23
  4. om met hul gade, lewensmaat, familie, mediese praktisyn of godsdiensraadgewer in verbinding te tree.24

Die vorm bevat ook ’n lys van regte met betrekking tot arrestasie, insluitende:

  1. die reg op stilswye en om daarvan in kennis gestel te word25
  2. die reg teen verpligte bekentenisse of erkennings26
  3. die reg om binne 48 uur na arrestasie voor ’n hof gebring te word en om van die rede ingelig te word indien aanhouding voortgesit word27
  4. die reg op vrylating van aanhouding indien dit in die belang van geregtigheid is.28

Alhoewel Algemene bevel G.34129 arrestasie afraai, is die insluiting van die regte van die gearresteerde persoon by die voorgeskrewe vorm ’n aanduiding dat dit wel in realiteit gebeur.

Die volgende vorm is ’n J534-vorm wat ’n skriftelike kennisgewing is om in die hof te verskyn. In Parsons en Tong het die Wes-Kaapse Afdeling van die Hooggeregshof op twee geleenthede na die ontoereikendheid van die vorige J534-vorm verwys. Hierdie weergawe het, byvoorbeeld, geensins aangedui dat die betaling van die boete tot ’n skuldigbevinding sou lei of dat dit dan as ’n vorige veroordeling beskou sou word nie.30 Die howe het verder benadruk dat die verantwoordelikheid by die polisie rus om die aard en gevolge van die boetes aan die beskuldigde te verduidelik.31 Die tersaaklike vorms is mettertyd verander om die gevolge van die boete volledige uiteen te sit. Dit sluit nou ’n bevestiging in dat die polisie die betrokke gevolge aan die beskuldigde verduidelik het, welke gevolge ook in ’n addendum tot die vorm uiteengesit word.32 Hierdie vorm moet ook deur verdagtes onderteken word indien hulle die opsie wil uitoefen om ’n skulderkenningsboete te betaal. Die vorm dui aan dat betaling van die boete sal neerkom op ’n skuldigbevinding en dat sodanige skuldigbevinding op die persoon se kriminele rekord sal verskyn. Die J534-vorm maak dit ook duidelik dat die beskuldigdes, sou hulle die boete betaal, afstand doen van verskeie (prosedurele en grondwetlike) regte, insluitend die reg om formeel verhoor te word waar die Staat hul saak bo redelike twyfel moet bewys; om die Staat te konfronteer en hul aantygings in ’n hof aan te veg; om getuies te roep; asook die reg op regsbystand. Die addendum word ook deur die polisiebeampte onderteken om te bevestig dat die bogenoemde regte aan die beskuldigde verduidelik is.33

Die praktiese doeltreffendheid van hierdie vorms en veral die polisie se meegaande plig om die inhoud en gevolge van die ondertekening van hierdie vorms te verduidelik, word in die volgende afdeling ondersoek.

 

3. Onlangse regspraak

Uit twee onlangse sake blyk dit dat die voorgeskrewe vorms onderteken word, maar dat die beskuldigdes op hersiening aanvoer dat hulle nie behoorlik van hul regte ingelig was nie. Fundamenteel tot die uitoefening van grondwetlike regte, is om behoorlik daarvan ingelig te word. Daar rus verder ook ’n verpligting op polisiebeamptes om tydens die voorverhoorfase aan ’n beskuldigde sy of haar reg tot stilswye te verduidelik.34 Daar moet veral gelet word op die beginsel, naamlik of die verdagte die regte, en veral in hierdie geval die reg op stilswye asook die aard en gevolge van die ondertekening van die relevante vorms, verstaan.

3.1 S v Elgin

In Elgin is die beskuldigde in 2014 by ’n kettingwinkel gearresteer vir winkeldiefstal. Nadat sy by die uitgang van die winkel deur sekuriteit voorgekeer is, is sy na die agterkant van die winkel geneem. Daar het die sekuriteitsbeamptes haar handsak deursoek en twee items (kalmeerpille en ’n haaryster) ter waarde van R224,90 gevind. Die polisie is daarna geskakel. Sy is gearresteer, na die polisiestasie geneem35 en van die bostaande dokumente voorsien, wat sy onderteken het. Daar is ook ’n bewys van skulderkenning wat in die naam van die beskuldigde uitgereik is nadat sy R300 as haar skulderkenningsboete betaal het.36

Die dokumente is uiteindelik by die hof ingedien, wat daartoe gelei het dat me. Elgin ’n skuldigbevinding ontvang het. Me. Elgin het die saak op hersiening geneem, waar die kern van haar argument was dat die betrokke polisiebeamptes nie die korrekte prosedure gevolg het nie en dat die verrigtinge teen haar nie in ooreenstemming met geregtigheid was nie.37 Me. Elgin het beweer dat sy ten tyde van die gebeure in ’n dwaal was en nie soos haarself gevoel het nie. Sy het verder aangevoer dat sy aan depressie en ’n angssteurnis ly. Sy het antidepressante en antipsigotiese medikasie geneem wat sy beweer die genoemde dwaal veroorsaak het. Sy het ook aangevoer dat sy ’n “aanval” gehad het (maar het nie aangedui van watter soort nie) wat haar angstoestand vererger het.38

Me. Elgin het verder beweer dat sy nie genoegsaam ingelig is van die aard en omvang van die proses nie en dat sy in ’n besonder weerlose emosionele toestand was wat deur haar reeds bestaande sielkundige toestande en medikasie wat sy geneem het vererger is.39

Sy het ook beweer dat sy bloot in die polisievoertuig (tussen die winkel en die polisiestasie) gevra is of sy geld op haar het om ’n boete by die polisiestasie te betaal. In geen stadium, beweer sy, is sy ooit van haar reg op regsverteenwoordiging en ander billike verhoorregte ingelig nie.40 Sy is slegs ingelig dat sy ontslaan sal word indien sy ’n vorm onderteken en ’n R300-boete betaal. Die alternatief was om óf tot 48 uur in polisie-aanhouding te bly, óf tot en met haar eerste verskyning voor die hof. Me. Elgin was egter angsbevange om terug te keer na die selle toe.41

Die hof het hier uitgewys dat die betaling van die boete aan me. Elgin voorgehou is as die enigste wyse om vrygelaat te word. Die moontlikheid van borg42 of om haar op ’n waarskuwing vry te laat is dus nooit aan haar verduidelik nie.43 Die beskuldigde is bloot van die tersaaklike dokumente – sonder enige verdere verduideliking – voorsien en daar is summier van haar verwag om dit te onderteken. Sy is ook nie ’n geleentheid gegun om die dokumente na te gaan nie. Daar is ook nie aan haar verduidelik dat haar skulderkenning ’n kriminele rekord tot gevolg sal hê nie.44 In die lig van die bogenoemde het regters Thulare en Wille bevind dat indien me. Elgin haar saak in ’n hof verdedig het, sy hoogs waarskynlik onskuldig bevind sou word.45

Die landdros wat haar skulderkenning nagegaan het, het geen rede gevind om dit op hersiening ingevolge artikels 302 of 304(4) (gelees saam met art. 57(7)) te verwys nie.46 Dit is waarskynlik omdat die omstandighede rondom die beskuldigde se skulderkenning nie aan die landdros bekend was nie en dit eers in haar beëdigde verklaring vir hierdie hersiening geöpenbaar is.47

Regter Thulare het gevolglik bevind dat ten tyde van die nagaan van die dokumente48 om vas te stel of die skuldigbevinding “ooreenkomstig die reg geskied het”, die voorsittende beampte nie van al die tersaaklike feite verwittig is nie.49 Die tersaaklike feite in Elgin sluit in me. Elgin se geestestoestand, dat sy nie behoorlik van haar grondwetlike regte ingelig is nie of dat dit nie aan haar verduidelik is nie, en die feit dat sy geen geleentheid gegun is om die vorm te lees en te oorweeg nie. Sy was verder ook nie bewus gemaak daarvan dat die betaling van die boete op haar kriminele rekord sou verskyn nie. Alhoewel sy formeelregtelik die nodige vorms onderteken het, ontbreek substantiewe billikheid teenoor haar. In hierdie verband verwys die hof na die uitspraak in Parsons, waar daar beslis is dat daar ten minste ’n mate van “equity and fair dealing” moet wees alvorens ’n hof sal ingryp nadat die proses rondom ’n skulderkenningsboete gefinaliseer is.50

Me. Elgin se vonnis is gevolglik tersyde gestel en daar is verder beveel dat die boete aan haar terugbetaal moet word. Sy mag egter weer vervolg word – deur middel van ’n gewone verhoor.51

3.2 Hoosen v S

In Hoosen was die negentienjarige beskuldigde met ’n klein hoeveelheid dagga betrap en gearresteer. Hy is na die polisiestasie geneem waar die polisie ’n boetebedrag van R150 vasgestel het en die beskuldigde dit betaal het.52 Alhoewel die hof nie in enige besonderhede ingegaan het nie, het die hof wel daarop gewys dat die beskuldigde ’n “sertifikaat” onderteken het wat aangedui het dat sy grondwetlike regte aan hom verduidelik is en dat hy hierdie verduideliking verstaan het.53 Die beskuldigde het gevolglik die vorms onderteken, skynbaar (aangesien dit nie duidelik blyk vanuit die uitspraak nie) sonder om die bepalings te lees.54 Hy beweer ook dat die polisie nooit die gevolge van ondertekening, en dus skulderkenning, aan hom verduidelik het nie. Die beskuldigde was onder die indruk dat die betaling van R150 borgtog was. Hy voer aan dat dit in die polisievoertuig en by die polisiestasie so aan hom verduidelik is. Verder was die betaling van die R150 as sy enigste opsie voorgehou, by versuim waarvan hy vir die naweek in aanhouding sou moes bly.55 Gevolglik was hy onder die indruk dat die ondertekening van die betrokke vorm verband gehou het met sy sogenaamde vrylating op borg en was nie bewus daarvan dat hy ’n skulderkenningsboete betaal het wat ’n kriminele rekord tot gevolg sal hê nie.56 Hy is eers met die gevolge gekonfronteer toe hy vir werk aansoek gedoen het en ontdek het dat hy ’n kriminele rekord het.57

Regters Thulare en Samela wys uit dat, nes in Elgin, hierdie feite nie voor die hof was toe die stukke ingevolge artikel 57(7) van die SPW nagegaan is nie.58 Hy spreek ook sy kritiek uit teen die skynbare misbruik van die skulderkenningsboetestelsel om “ongeregverdigde” skuldigbevindings vir onbeduidende misdrywe te verkry, wat dan ’n kriminele rekord tot gevolg het.59 Hoosen se skuldigbevinding en vonnis is gevolglik tersyde gestel en die regters het ook beveel dat die R150-boete aan hom terugbetaal moet word en dat die Staat hom steeds normaalweg mag vervolg.60

 

4. Prosedurele geregtigheid en misdaadbeheer

Die bostaande oorsig van onlangse sake (asook vroeëre sake) lig uit dat daar spanning bestaan tussen misdaadbeheer en prosedurele geregtigheid.61 Alhoewel hierdie begrippe in teenstelling met mekaar gesien kan word, openbaar dit egter meestal in ’n spektrum in regstelsels waar nie een of die ander eksklusief toegepas word nie. Die misdaadbeheermodel, soos die naam veronderstel, fokus op die onderdrukking van misdaad.62 Voorts erken voorstanders van hierdie model tereg dat die primêre funksie van die strafregpleging is om misdaad te beheer en te onderdruk.63 Kenmerkend dan ook aan só ’n stelsel is die noodsaaklikheid en strewe na effektiwiteit in die administrasie van geregtigheid. Groot klem word dus daarop gelê om misdaad te identifiseer en te ondersoek en die daaropvolgende verhoor effektief af te handel.64 Weens ’n tekort aan hulpbronne en stygende misdaadsyfers, is die spoed waarteen hierdie prosesse plaasvind en finaliteit ook baie belangrik.65 Skulderkenningsboetes is dus ’n nuttige wapen in die Staat se arsenaal, aangesien dit oor die belangrikste karaktertrekke van misdaadbeheer beskik. Die proses is vinnig en effektief omdat ’n formele en uitgerekte polisie-ondersoek nie nodig is nie, en omdat die Staat ook nie getuienis deur middel van ’n formele verhoor hoef aan te bied nie. Dit is ook in beginsel voordelig vir die beskuldigde, aangesien dit sodanige beskuldigde van ’n uitgerekte verhoor en die gepaardgaande koste spaar. Suid-Afrika staar ’n gebrek aan hulpbronne in die gesig, wat lei tot agterstande in die howe, iets wat hoofregter Zondo ook aangeroer het.66 In die lig hiervan is skulderkenningsboetes voordelig, aangesien die uitreiking daarvan minimale besteding van polisiehulpbronne aan ’n beweerde oortreding tot gevolg het en is dit uit hierdie oogpunt ook voordelig met betrekking tot die probleme rondom die verspreiding en toedeling van polisiehulpbronne.67

Die prosedurelegeregtigheidsmodel, aan die ander kant, verontagsaam nie die belang van misdaadbeheer nie, maar beskou dit nie as die vernaamste funksie van strafregpleging nie. Misdaad moet bekamp word, maar dit moet geskied met behoorlike agting vir die beskuldigde se regte.68 Persone wat onderwerp word aan strafregpleging moet beskerm word gedurende elke kritieke interaksie met die strafregstelsel – insluitend die voorverhoorfase.69 Regterlike oorsig (as die laaste fase van die huidige boetestelsel) en so ook hersiening ingevolge artikel 304 van die SPW is dus uiters belangrik aangesien die wigte en teenwigte wat teen ongeregverdigde skuldigbevindings sou beskerm hier in ’n baie mindere mate teenwoordig is.

In Key v Attorney-General, Cape Provincial Division70 verwys die Konstitusionele Hof na die onderliggende spanning tussen misdaadbeheer en prosedurele geregtigheid. Desnieteenstaande is die howe en die wetgewer egter verplig om beskuldigdes te beskerm teen “oorgretige” polisieondersoeke en vervolgings deur die Staat.71 Hierdie beskermingsrol is nodig veral weens Suid-Afrika se misbruik van staatsinstellings om mense te onderdruk tydens die apartheidsera, wat bygedra het tot die behoefte aan die Handves van Menseregte.72 Die Konstitusionele Hof het verder in S v Coetzee73 tot soortgelyke gevolgtrekkings gekom en verwys hier na die spanning en verband tussen die beskerming van ’n beskuldigde se regte en die voorkoming van ernstige misdade. Regter Sachs lê klem daarop dat alhoewel daar ’n groter verwagting vanaf die samelewing is om ernstige misdaad te bekamp, daar steeds ’n balansering van belange moet plaasvind:

The starting point of any balancing enquiry where constitutional rights are concerned must be that the public interest in ensuring that innocent people are not convicted and subjected to ignominy and heavy sentences, massively outweighs the public interest in ensuring that a particular criminal is brought to book.74

By die betaling van skulderkenningsboetes is die rol van die polisie uiters belangrik. Die rede hiervoor is dat die polisie waarskynlik die enigste amptenare sal wees waarmee die beskuldigde te doen sal hê tydens die proses. Polisieamptenare moet ook Suid-Afrika se demografie in ag neem wanneer hulle met verdagtes omgaan. Volgens die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding is ongeveer 4 miljoen volwassenes75 ongeletterd.76 Dit volg dus dat beskuldigdes moontlik nie behoorlik verstaan watter nagevolge die ondertekening van die skulderkenningsdokumentasie en gepaardgaande boete teweeg sal bring nie. Polisieamptenare moet ook behoorlik opgelei word om genoegsame agting en deernis vir beskuldigdes van diverse agtergronde te toon en om seker te maak dat hulle weens die erns daarvan die waarskuwings en kennisgewings op die voorgeskrewe dokumentasie verstaan. Ingevolge die nuwe vorms word dit in elk geval van hulle vereis.

Die Principles on effective interviewing for investigations and information gathering (hierna die “Méndez-beginsels”)77 dui op die inherente magswanbalans tussen die verdagtes en die polisie. Hierdie magswanbalans word vererger deur die feit dat die verdagte strafregtelike gevolge in die gesig staar, wat tot angs en vrees kan lei.78 Die psigologiese impak van vrees en angs kan misverstande tydens die ondervraging veroorsaak.79 Die Méndez-beginsels beklemtoon ook verskeie risikofaktore.80 Hierdie faktore sluit die volgende in: ouderdom, geslag, geslagtelikheid, seksuele oriëntasie, nasionaliteit, etnisiteit, kulturele of geloofsoortuiging, fisieke en intellektuele gebreke, ongeletterdheid en die onvermoë om effektief te kommunikeer.81 Daar is ook ’n aantal faktore wat verdagtes se kwesbaarheid, veral tydens ondervraging, kan vererger. Veral relevant tot die sake wat hier bo bespreek is, is die verdagte se gesondheid, insluitend dronkenskap en bedwelmdheid.82

Die skulderkenningsboetestelsel is gegrond op die aanvaarding dat ’n beskuldigde ’n rasionele, ingeligte besluit neem wanneer hy of sy skuldig pleit.83 Wanneer beskuldigdes ingevolge artikel 57 skuld erken, doen hulle afstand van hul fundamentele regte ingevolge ’n skulderkenningsboete. Sodanige beskuldigde verloor onder andere die reg tot ’n verhoor en die reg om getuienis aan te bied om die Staat se saak aan te veg. Hierdie afstanddoening van fundamentele regte verg dus “die sterkste vorm van outonomie”.84 Deur beskuldigdes hul vryheid te belowe in ruil vir die betaling van ’n boete, het ’n impak op die graad en gehalte van die vereiste outonomie.85 Die situasie word verder vererger deur die bogemelde magswanbalans tussen die Staat en die beskuldigde en die beskuldigde se toegang tot regsverteenwoordiging en inligting wat sy of haar outonomie bevorder en sy of haar rol in die strafregstelsel versterk.86 Daar word aan die hand gedoen dat faktore soos geestestoestand (soos gesien in Elgin) en ouderdom (soos gesien in Hoosen) die inherente magswanbalans tussen die Staat en die beskuldigde verder ten gunste van die Staat skuif, wat dan afbreuk doen aan enige vorm van “sterk” outonomie. Outonomie word verder ingeperk deur die angs wat ’n konfrontasie met die gereg meebring. Slegs deur beskuldigdes ten volle van hul keuses (insluitend om die aanklag in ’n hof aan te veg) en die aard en omvang van die betaling van die boete (insluitende die verkryging van ’n vorige veroordeling) in te lig en te verduidelik, kan daar gesê word dat die beskuldigde werklik ’n outonome en ingeligte besluit geneem het.

Dit wil egter lyk of beskuldigdes se grondwetlike regte in ’n mate verontagsaam word ten einde die effektiwiteit van die boetestelsel te maksimeer. Beide die beskuldigdes in Elgin en Hoosen het aangevoer dat hulle nooit behoorlik van hul regte ingelig is of die vorms gelees het nie. Die polisie moet verseker dat dit gebeur. Me. Elginwas verder onder die invloed van antidepressante en antipsigotiese medikasie wat veroorsaak het dat sy in ’n dwaal verkeer het.87 Skynbaar is daar nie veel aandag aan haar of haar toestand gegee of seker gemaak dat sy die aard en gevolge van die betaling van die skulderkenningsboete verstaan nie. Onder die verkeerde omstandighede en in ’n strewe om ’n saak vinnig af te handel deur ’n skulderkenningsboete uit te reik, word daar dus te veel klem gelê op effektiwiteit. Dit is hier waar die strewe na effektiwiteit dan ten koste van prosedurele geregtigheid of billikheidsoorwegings kom. Dieselfde kan gesê word van Hoosen. Alhoewel die beskuldigde nie ’n minderjarige was nie, was hy steeds relatief jonk (negentien) en dit lyk of hy relatief onkundig was oor die prosesse waaraan hy onderworpe was. Hy het ook die aard van die bedrag wat hy moes betaal wesenlik misverstaan en aanvaar dat dit eintlik borg was.88 Die beskuldigde in Hoosen, net soos me. Elgin,was desperaat om ontslaan te word en beide was dus gretig om die onderskeie bedrae te betaal.89

Die prosedure by skulderkenningsboetes is vergelykbaar met dié van die inkwisitoriale proses ingevolge artikel 112(1)(b) van die SPW. Ingevolge hierdie proses word daar van ’n regterlike beampte vereis om die beskuldigde te ondervra indien so ’n persoon skuldig pleit tot ’n ernstige misdryf.90 ’n Ernstige misdryf ingevolge artikel 112(1)(b) sluit onder andere in wanneer ’n beskuldigde ’n boete van minstens R5 000 in die gesig staar. Die doel van die artikel 112(1)(b)-ondervraging is om ongeregverdigde skuldigbevindings te verhoed en seker te maak dat die beskuldigde al die wesenlike elemente van die misdaad erken, en om te bepaal of die beskuldigde ’n moontlike verweer teen die aanklagte het asook of hulle die aard en omvang van hierdie erkennings verstaan.91 Dit is opvallend dat ’n skulderkenningsboete tot op R10 000 opgelê kan word met minimale regterlike oorsig, maar ’n boete van R5 000 verplig regterlike ondervraging ingevolge artikel 112(1)(b). Beide hierdie bedrae is in GK R62 in SK 36111 van 30 Januarie 2013 vasgestel. Die onderskeid tussen hierdie twee bedrae en prosesse blyk minstens kunsmatig en hoogstens onbillik te wees, aangesien beide tot ’n skuldigbevinding en dus vorige veroordeling kan lei. Dit wil dus ook voorkom dat meer klem op effektiwiteit ten koste van prosedurele geregtigheid val. In Hoosen het regters Thulare en Samela die volgende rakende skulderkenningsboetes beslis: “It was not intended to assist the State amass undeserved criminal convictions and cloth trivial misdemeanours with the gravity of a criminal record from a court of law.”92 In Elgin sou die regterlike ondervraging ingevolge artikel 112(1)(b) waarskynlik reeds me. Elgin se emosionele en geestestoestand geopenbaar het, wat ’n moontlike verweer daar sou konstel.

Dit is ook algemeen bekend dat mense nie altyd hierdie boetes betaal omdat hulle werklik of regtens skuldig is nie. Dit word dikwels betaal slegs om die ongerief, angs en koste van ’n formele verhoor te vermy.93 Curlewis kritiseer ook regspraktisyns wat betaling van skulderkenningsboetes aanmoedig sonder om die gevolge daarvan aan hul kliënt te verduidelik.94 Die publiek se algemene opvatting is nie dat die betaling van hierdie boetes ’n (vorige) veroordeling tot gevolg sal hê nie.95 In hierdie verband verwys Van As en Erasmus na die opvatting dat vorige veroordelings nie tot ’n kriminele rekord sal lei nie, aangesien ’n persoon se vingerafdrukke nie noodwendig ná betaling geneem word nie.96 Soos die outeurs tereg daarop wys, is die neem en verwerking van vingerafdrukke nie ’n voorvereiste vir iemand om ’n kriminele rekord te verkry nie.97

 

5. Wysigingswet op Regterlike Aangeleenthede 15 van 2023

Die Wysigingswet wysig verskeie stukke wetgewing, insluitend die SPW. Die gewysigde bepalings in die SPW handel oor skulderkenningsboetes – veral die regsgevolge daarvan. Die Minister van Justisie (in oorleg met die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings (DOV) en die kabinetslid belas met polisie) mag sekere (klasse) oortredings (of oortredings wat in sekere omstandighede gepleeg is) as oortredings verklaar wat nie as ’n vorige veroordeling ná betaling van ’n skulderkenningsboete sal kwalifiseer nie.98 Voordat ’n oortreding egter hierdie status kan verkry, moet daar ’n reeks “gronde en kriteria” in ag geneem en vervul word soos uiteengesit in artikel 57B(2)(a)–(c). Weens die gebruik van die woord moet (“must”) in die teks blyk dit duidelik dat hierdie gebiedende “gronde en kriteria” in ag geneem moet word. Die Minister, DOV en die kabinetslid moet dus al die faktore in ag neem, welke faktore ook gebiedend van aard is weens die herhaaldelike gebruik van must en must not.

Die eerste faktor is dat die misdryf ’n statutêre misdryf moet wees, strafbaar met ’n boete, met of sonder die alternatief van tronkstraf van tot op ses maande indien die beskuldigde sou versuim om die boete te betaal.99

Die mees beskrywende faktor is artikel 57B(2)(b)(i)–(vii). Hierdie artikel beskryf die eienskappe waaroor die misdrywe nie moet beskik nie, naamlik dat daar:

  • geen element van geweld betrokke mag wees nie100
  • nie op iemand se fisieke, geestes- en sielkundige gesondheid inbreek gemaak mag word nie101
  • geen skade aan iemand se eiendom aangerig mag word nie102
  • nie “’n element van oneerlikheid” betrokke mag wees nie103
  • geen element van wreedheid teenoor diere mag wees nie104
  • nie ’n misdryf teenoor die regspleging mag wees nie105
  • nie ’n ekonomiese verlies vir iemand mag wees nie.106

Die laaste faktor lui dat die verkryging van ’n kriminele rekord nie ’n gepaste meganisme is om regsnakoming aan te moedig nie.107

Die faktore ingevolge artikel 57B(2) van die SPW sluit baie misdrywe uit wat dikwels onderworpe is aan die betaling van ’n skulderkenningsboete. Dit sou byvoorbeeld diefstal uitsluit (soos in die geval in Elgin) aangesien diefstal nie ’n statutêre misdryf is nie en dit ekonomiese verlies veroorsaak. Dit sou ook die besit van dwelms (soos in die geval in Hoosen) uitsluit aangesien dit iemand se gesondheid mag benadeel.108

Die posisie verskil egter ingevolge die Wetsontwerp met verwysing na sekere misdrywe wat verband hou met die onwettige besit en gebruik van dagga.109 Dit sluit in om met dagga handel te dryf,110 om ’n minderjarige toe te laat om dagga te gebruik of besit,111 die kultivering112 van daggaplante bo die toegelate maksimum,113 die gebruik van dagga in die openbaar114 en misdrywe wat verband hou met die gebruik, vervoer of besit van dagga op openbare paaie.115 Artikel 4(12) van die Wetsontwerp stel dit egter dat enige vonnis wat slegs die betaling van ’n boete daarstel sonder die alternatief van tronkstraf, nie as ’n vorige veroordeling ingevolge hoofstuk 27 van die SPW geag sal word nie. Persone wat byvoorbeeld dagga in ’n voertuig op ’n openbare pad gebruik116 of persone wat dagga in die openbaar gebruik, sal ’n boete van tot R2 000 in die gesig staar. Daar is geen alternatief om gevangenisstraf op te lê nie, dus sal dit binne die omvang van artikel 4(12) val.

Die vorige weergawe van die Wetsontwerp op Dagga vir Private Doeleindes [B 19-2020] het ook in die verduidelikende aantekeninge aangedui dat daar verdere wysigings beoog word met betrekking tot die dagvaardings of skriftelike kennisgewings wat uitgereik sal word ten einde ’n skulderkenningsboete te fasiliteer. Hierdie wysigings sal die inligting verskaf wat op sulke dagvaardings of skriftelike kennisgewings moet verskyn. Tans word hierdie inligting slegs in die bostaande vorms vervat en nie in wetgewing nie. Daar is egter geen teken van hierdie byvoegings in die substantiewe teks van daardie of die finale Wetsontwerp nie.

 

6. Finale opmerkings

Dit is duidelik dat skulderkenningsboetes ’n nuttige en noodsaaklike funksie in die Suid-Afrikaanse strafregstelsel verrig. Dit is egter kommerwekkend hoeveel sake die ontoereikendheid van hierdie proses ontbloot. Tog word hierdie kwessies dikwels eers ontbloot wanneer die beskuldigdes skoon kriminele rekords moet bewys, veral vir werksaansoeke (byvoorbeeld die Tong-, Hoosen-, Rademeyer- en NGJ-sake). Dit wil dus voorkom of polisieamptenare nie hul plig ingevolge die voorgeskrewe vorms nakom nie, wat kan lei tot ’n inbreukmaking op die beskuldigdes se grondwetlike regte.

Die Wysigingswet en Wetsontwerp bring dus ’n welkome benadering tot skulderkenningsboetes. Die misdrywe wat wel moontlik kan kwalifiseer vir nie-optekening in die skulderkenningsregister blyk nou redelik te wees.

Die Regskommissie het byvoorbeeld in 2002 oorweeg of skulderkenningsboetes nie eerder as ’n administratiewe proses geherstruktureer moet word nie. Dit sou dan die behoefte aan regterlike oorsig verwyder en die ernstige gevolge van ’n skuldigbevinding en vorige veroordeling verwyder.117 Hierdie voorstel is egter nooit verwesenlik nie.

 

Bibliografie

Curlewis, L. 2014. Sugar-coating guilt: Admission of guilt fines – no easy fix. De Rebus, 2014(540):24–6.

Du Toit, E., F. de Jager, A. Paizes en S.E. van der Merwe. 1987. Commentary on the Criminal Procedure Act. Diensuitgawe 64. Kaapstad: Juta.

Duff, P. 1998. Crime control, due process and “the case for the prosecution”: A problem of terminology? British Journal of Criminology, 38(4):611–5.

Helm, R.K., R. Dehaghani en D. Newman. 2022. Guilty plea decisions: Moving beyond the autonomy myth. The Modern Law Review, 85(1):133–8.

Joubert, J.J., G.P. Kemp, J.P. Swanepoel, S.S. Terblanche, S.E. van der Merwe, D. Ally en M.T Mokoena. 2020. Strafprosesreghandboek. (Redakteur J.J. Joubert). 13de uitgawe. Claremont: Juta.

Khuluvhe, M. 2021. Fact sheet: Adult illiteracy in South Africa. Pretoria: Departement van Hoër Onderwys en Opleiding.

Kruger, A. 2023. Hiemstra’s criminal procedure. Durban: LexisNexis.

Modise, K. 2023. Annual judicial report: Zondo pins SA’s criminal case backlog on load shedding. https://ewn.co.za/2023/02/24/annual-judicial-report-zondo-pins-sa-s-criminal-case-backlog-on-load-shedding (4 Desember 2023 geraadpleeg).

Packer, H.L. 1964. Two models of the criminal process. University of Pennsylvania Law Review, 113(1):1–68.

Parliamentary Monitoring Group. 2024. Cannabis for Private Purposes Bill. https://pmg.org.za/bill/965/ (6 Mei 2024 geraadpleeg).

Schrieber, S. 2023. Unresolved cases: As crime increases, SAPS continues to lose detectives. https://www.timeslive.co.za/news/south-africa/2023-06-30-unresolved-cases-as-crime-increases-saps-continues-to-lose-detectives/ (4 Desember 2023 geraadpleeg).

Steytler, N. 1998. Constitutional criminal procedure: A commentary on the Constitution of the Republic of South Africa, 1996. Durban: Butterworths.

Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). 2011. Standing order (G) 341: Arrest and the treatment of an arrested person until such person is handed over to the Community Service Centre commander (Consolidation notice 15/1999, amended by Consolidation notice 35 of 2011).

Suid-Afrikaanse Regskommissie (SARK). 2002. Project 73: Sixth interim report on simplification of criminal procedure. Pretoria: SARK.

The Anti-Torture Initiative. 2021. Principles on effective interviewing for investigations and information gathering. https://www.apt.ch/sites/default/files/publications/apt_PoEI_EN_11.pdf (18 Mei 2024 geraadpleeg).

Theophilopoulos, C., Z. Hlope, C. Marumoage, K. Naidoo, J. Omar, S. Singh, A. Steynberg, B. Tshehla en A. van der Merwe. 2020. Criminal Procedure in South Africa. (Redakteur C. Theophilopoulos.) Kaapstad: Oxford University Press South Africa.

Van As, H. en D. Erasmus. 2020. Admission of guilt fine: A legal shortcut with delayed shock? South African Crime Quarterly, 69(1):2–58.

Van der Linde, D.C. 2020. Poverty as a ground of indirect discrimination in the allocation of police resources – A discussion of Social Justice Coalition v Minister of Police 2019 4 SA 82 (WCC). Potchefstroom Electronic Law Journal, 23(1):1–28.

Zondo, R. 2023. Zondo outlines scope of performance of judicial functions. YouTube. https://youtu.be/jA-Vrrru-Tk (4 Desember 2023 geraadpleeg).

 

Eindnotas

1 Te wete S v Elgin 2022 1 SACR 325 (WKK) en Hoosen v S (412/22) [2023] ZAWCHC 47.

2 Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996.

3 2022 1 SACR 325 (WKK) (hierna Elgin).

4 (412/22) [2023] ZAWCHC 47 (hierna Hoosen).

5 Die wetsontwerp is tans by die president vir ondertekening en het nog nie in werking getree nie – sien Parliamentary Monitoring Group (2024). Die status is dus steeds dié van ’n wetsontwerp, aangesien ’n wetsontwerp eers ná presidensiële ondertekening die status van ’n wet verkry.

6 Art. 57A van die SPW reguleer weer skulderkenningsboetes na ’n hofverskyning. Onderskei ook ’n boete wat deur ’n hof ingevolge art. 276 van die SPW as straf neergelê kan word. Hierdie bydrae handel nie oor hierdie twee tipes boetes nie.

7 GK R62 in GG 36111 van 30 Januarie 2013.

8 Art. 56(1); gelees met GK R62 in GG 36111 van 30 Januarie 2013.

9 Art. 57(6) van die SPW.

10 Ibid.

11 Regter Henney het in Mong v Director of Public Prosecutions 4 All SA 447 (WKK) par. 56 die volgende beslis: “It is therefore clear that the deemed conviction is subject to the provisions of subsection (7). It is a deemed conviction subject to judicial imprimatur. Put differently, it is a deeming provision which is regarded as a conviction and sentence, and the proceedings are only complete after a judicial officer has exercised its judicial discretion in terms of subsection (7).” Die eertydse Appèlafdeling het in NGJ Trading Stores (Pty) Ltd v Guerreiro 1974 4 SA 738 (A) (NGJ II) 745–6 tot dieselfde gevolgtrekking gekom met verwysing na die proses ingevolge die Strafproseswet 56 van 1955.

12 Sien Kruger (2023:8–4); Du Toit e.a. (1987:8–1); S v Tong 2013 1 SACR 346 (WKK) par. 23.

13 S v Cedras 1992 2 SACR 530 531.

14 S v Parsons 2013 1 SACR 38 (WKK) 40; Cedras 531–2.

15 Parsons 40; Cedras 532.

16 Art. 57(7) van die SPW. Sien ook Kruger (2023:8–4).

17 S v Shange 1983 4 SA 46 (N) 46; Madhinda par. 17–8.

18 Du Toit, De Jager, Paizes en Van der Merwe (1987:1); Theophilopoulos, Hlope, Marumoage, Naidoo, Omar, Singh, Steynberg, Tshehla en Van der Merwe (2020:194).

19 Sien Hoosen par. 8; Elgin par. 22.

20 Sien Elgin par. 5.

21 Ingevolge art. 35(2)(b) van die Grondwet.

22 Ingevolge art. 35(2)(d) van die Grondwet.

23 Ingevolge art. 35(2)(e) van die Grondwet.

24 Ingevolge art. 35(2)(f) van die Grondwet.

25 Ingevolge art. 35(1)(a) en (b) van die Grondwet.

26 Ingevolge art. 35(1)(c) van die Grondwet.

27 Ingevolge art. 35(1)(d) en (e) van die Grondwet.

28 Ingevolge art. 35(1)(f) van die Grondwet.

29 SAPD (2011) (Standing order (G) 341).

30 Parsons parr. 4–6; Tong parr. 24–5.

31 Sien Parsons par. 6; Tong par. 25.

32 Sien Elgin par. 4; Parsons par. 6.

33 Sien Elgin par. 4.

34 Theophilopoulos e.a. (2020:105); Steytler (1998:117).

35 Elgin par. 2.

36 Elgin par. 3.

37 Elgin par. 7.

38 Ibid.

39 Elgin par. 8.

40 Ibid.

41 Elgin par. 9.

42 Waarskynlik polisieborg ingevolge art. 59(1)(a) van die SPW.

43 Elgin par. 10.

44 Ibid.

45 Ibid.

46 Elgin par. 11.

47 Elgin par. 13.

48 Ingevolge art. 57(7) van die SPW.

49 Elgin parr. 15–7.

50 Parsons par. 4; Cedras 531–2.

51 Ingevolge art. 57(7); Elgin par. 22.

52 Hoosen par. 4.

53 Ibid.

54 Sien Hoosen par. 5.

55 Hoosen par. 6.

56 Hoosen par. 5.

57 Ibid.

58 Hoosen par. 8.

59 Ibid.

60 Hoosen par. 9.

61 Joubert, Kemp, Swanepoel, Terblanche, Van der Merwe, Ally en Mokoena (2020:9).

62 Packer (1964:9–10).

63 Duff (1998:611–2).

64 Packer (1964:10).

65 Ibid.

66 Zondo (2023); Modise (2023).

67 Sien Van der Linde (2020:1–28); Schrieber (2023).

68 Joubert e.a.(2020:9).

69 Ibid.

70 Key v Attorney-General, Cape Provincial Division 1996 2 SACR 113 (KH).

71 Key par. 13.

72 Key vn. 22.

73 S v Coetzee 1997 3 SA 527 (KH).

74 Coetzee par. 220.

75 Die verslag, vir redes onbekend aan die outeur, definieer ’n volwassene as iemand van 20 jaar of ouer – sien Khuluvhe (2021:5).

76 Sien Khuluvhe (2021:8).

77 The Anti-Torture Initiative (2021). Hierdie beginsels word meestal na verwys as die Méndez-beginsels (na die voormalige Spesiale Rapporteur oor Marteling vir die Verenigde Nasies J.E. Méndez).

78 Méndez-beginsels parr. 132–3.

79 Méndez-beginsels par. 133.

80 Méndez-beginsels par. 135.

81 Ibid.

82 Méndez-beginsels par. 136.

83 Sien Helm, Dehaghani en Newman (2022:137–8, 141–2).

84 Helm e.a. (2022:141).

85 Helm e.a. (2022:142).

86 Helm e.a. (2022:142–3).

87 Elgin par. 7.

88 Hoosen par. 5.

89 Ibid.; Elgin parr. 8–9.

90 Art. 112(1)(b) lui: “Waar ’n beskuldigde in ’n summiere verhoor in enige hof skuldig pleit aan die ten laste gelegde misdryf, of aan ’n misdryf waaraan hy op die aanklag skuldig bevind kan word en die aanklaer daardie pleit aanvaar moet die voorsittende regter, streeklanddros of landdros, indien hy of sy van oordeel is dat die misdryf gevangenisstraf of ’n ander vorm van aanhouding sonder die keuse van ’n boete of ’n boete van meer as die bedrag wat die Minister van tyd tot tyd by kennisgewing in die Staatskoerant bepaal, regverdig, of indien deur die aanklaer daartoe versoek, die beskuldigde met betrekking tot die beweerde feite van die saak ondervra ten einde vas te stel of hy of sy die bewerings in die aanklag waarop hy of sy skuldig gepleit het, erken, en, indien hy of sy oortuig is dat die beskuldigde skuldig is aan die misdryf waaraan hy of sy skuldig gepleit het, kan hy of sy die beskuldigde op sy of haar pleit van skuldig aan daardie misdryf skuldig bevind en ’n geoorloofde vonnis oplê.”

91 Sien Joubert e.a. (2020:361); S v Naidoo 1985 2 SA 32 (N) 121; S v Shiburi 2018 2 SACR 485 (HHA) par. 19.

92 Hoosen par. 8.

93 NGJ Trading Stores v Guerreiro 1974 1 SA 51 (O) 53; SARK (2002:par. 2.14); Curlewis (2014:25).

94 Ibid.

95 Sien bv. die feite in NGJ I, Hoosen, Tong en S v Rademeyer [2017] ZAGPPHC 175 (12 April 2017).

96 Van As en Erasmus (2020:2–58).

97 Ibid.

98 Art. 57B(1)(a)–(b).

99 Art. 57B(2)(a).

100 Art. 57B(2)(b)(i).

101 Art. 57B(2)(b)(ii).

102 Art. 57B(2)(b)(iii).

103 Art. 57B(2)(b)(iv).

104 Art. 57B(2)(b)(v).

105 Art. 57B(2)(b)(vi).

106 Art. 57B(2)(b)(vii).

107 Art. 57B(2)(c).

108 Art. 57B(2)(b)(ii).

109 Art. 2 van die Wetsontwerp handel oor die wettige besit en gebruik van dagga deur ’n volwassene.

110 Art. 4(1). Sien hfst. 1 vir die betekenis van “deal in” en “consideration”.

111 Art. 4(2) van die Wetsontwerp.

112 Sien hfst. 1 vir die betekenis van “cultivate” en “cultivation”.

113 Art. 4(5) van die Wetsontwerp.

114 Art. 4(9) gelees met art. 2(3) van die Wetsontwerp. Sien verder hfst. 1 vir die betekenis van “public place” en “private place”.

115 Art. 8(a)–(d) van die Wetsontwerp.

116 Ingevolge artikel 8(c) van die Wetsontwerp. Sien hfst. 1 vir die betekenis van “use of cannabis”.

117 SARK (2002:par. 2.15).

 

 

LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHET) en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys van goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of approved journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel en kan kwalifiseer vir subsidie deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding.

The post Skulderkenningsboetes in die lig van prosedurele geregtigheid en misdaadbeheer first appeared on LitNet.

The post Skulderkenningsboetes in die lig van prosedurele geregtigheid en misdaadbeheer appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 795

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>