|
Abstract
To hit a straight blow with a crooked stick
The expression “to hit a straight blow with a crooked stick” refers to achieving a good or correct outcome using imperfect or flawed means. In Solomon justice prevailed despite the court’s unnecessary application of section 2(3) of the Wills Act 7 of 1953 in order to condone a will that already complied with all of the testamentary formalities as prescribed in section 2(1)(a) of the Wills Act. The court also erred in respect of the nature of the enquiry required in section 4A(2)(a) of the Wills Act. Fortunately, the first respondent convinced the court (on a balance of probabilities) that he did not defraud or unduly influence the deceased during the execution of the latter’s will. The first respondent was accordingly declared competent to benefit from the deceased’s 2020 will despite his statutory disqualification in terms of section 4A(1) of the Wills Act. In this contribution, the author argues that the correct outcome was achieved despite the court’s erroneous application of various aspects of the Wills Act.
Keywords: capacity to inherit; condonation; statutory disqualification; testamentary formalities; wills
Trefwoorde: bevoegdheid om te erf; kondonasie; statutêre diskwalifikasie; testamente; testamentêre formaliteite
1. Inleiding
In Penwill v Penwill (61782/2012) [2016] ZAGPPHC 473 (20 Junie 2016) verwys regter Oosten na die lirieke van Piet Botha se “Begrafnislied” ten einde die mededingende menslike natuur in die konteks van geskille tussen familielede na afloop van ’n testateur se dood te beskryf, naamlik:
[...] Hoe later, hoe kwater
die testament, die groot baklei
broedertwis, dis gewis
want elkeen voel
hy moes meer kry
Die stof gaan lê maar
weer op die klip tot dit reën
en sy laaste woorde:
waar gaan dit alles tog heen (par. 3)
Soortgelyk is die feite in Solomon gebaseer op ’n geskil tussen twee broers rakende die verdeling van hul oorlede pa se bestorwe boedel (par. 1).
Gedurende 1996 het die oorledene en sy vrou ’n gesamentlike testament verly in gevolge waarvan die egpaar se enigste twee seuns (onderskeidelik die applikant en eerste respondent) in gelyke dele sou erf (par. 3). Kort na die afsterwe van die oorledene se vrou in 2004, het die eerste respondent en sy gesin by die oorledene ingetrek en het hul ’n wesenlike rol in die versorging van die oorledene gespeel, insluitend toe die oorledene in 2013 met kanker gediagnoseer is (par. 7).
Aan die ander kant het die verhouding tussen die oorledene en die applikant sedert 2004 versleg (parr. 4 en 6). Die verhouding het in so ’n mate versleg dat die applikant die eerste respondent in kennis gestel het dat hy geen kontak met die oorledene wou hê nie en geen nuus aangaande die oorledene wil ontvang nie, tensy dit nuus rakende sy afsterwe is (parr. 5, 7, 15 en 17.4). Met die oorledene se afsterwe het die applikant ook geen geheim van sy verbitterde gevoelens teenoor die oorledene gemaak nie en word die onstuimige verhouding ook nie deur die applikant in die huidige verrigtinge ontken nie (par. 6).
Die oorledene is op 15 Junie 2020 oorlede (par. 8). Bykans ’n maand voor sy afsterwe (en meer spesifiek op 20 Mei 2020) het die oorledene die eerste respondent ingelig dat hy ’n nuwe testament uitgeskryf het en dat dié testament deur getuies onderteken moet word (hierna die “2020-testament”) (par. 11). Die oorledene het aangedui dat die eerste respondent nie as ’n getuie mag optree nie, aangesien hy as begunstigde in die testament benoem is (par. 11). Die oorledene het die eerste respondent versoek om laasgenoemde se gade en dogter te roep ten einde as getuies op te tree (par. 11). Die eerste respondent was nie in die vertrek toe sy gade en dogter die testament in die oorledene en mekaar se teenwoordigheid geattesteer en onderteken het nie (par. 12). Nadat die gade en dogter die vertrek verlaat het, het die oorledene die eerste respondent versoek om ’n elektrisiën wat dié dag by die familiewoning teenwoordig was, te roep (parr. 9 en 12). Die oorledene het die elektrisiën versoek om die testament as (derde) getuie te attesteer en onderteken, welke taak deur die elektrisiën verrig is. Die elektrisiën se attestasie en ondertekening van die 2020-testament het egter nie in die teenwoordigheid van die ander twee getuies plaasgevind nie (par. 12).
Ingevolge die inhoud van die 2020-testament word die applikant onterf en word die eerste respondent as enigste begunstigde benoem (parr. 1–2, 4 en 9). Die eerste respondent is ook as eksekuteur in die 2020-testament benoem (par. 4).
Die ooglopende regsaspekte onderliggend tot die Solomon-saak (naamlik statutêre diskwalifikasie) sal vervolgens eers uitgelig en toegepas word (sien afdeling 2 van hierdie bydrae) voordat daar aandag aan die applikant se eis, die respondent se teenaansoek en waarnemende regter Hofmeyr (hierna regter Hofmeyr) se oorweging van die respondent se teenaansoek geskenk word (sien afdeling 3 en 4 van hierdie bydrae). Die rede vir die insluiting van die uitdrukking “om ’n reguit hou met ’n krom stok te slaan” in die titel van hierdie bydrae word in die gevolgtrekking toegelig (sien afdeling 5 van hierdie bydrae).
2. Statutêre diskwalifikasie
2.1 Artikel 4A(1) en (3) van die Wet op Testamente 7 van 1953
Artikel 4A(1) van die Wet op Testamente 7 van 1953 diskwalifiseer persone wat by die verlyding van ’n testament betrokke was om enige voordeel uit daardie betrokke testament te trek. Persone betrokke by die verlyding van die testament word spesifiek na verwys as: (i) ’n getuie wat die testament geattesteer en onderteken het; (ii) ’n amanuensis (iemand wat ’n testament namens en in opdrag van die testateur onderteken); (iii) ’n persoon wat die testament (of ’n deel daarvan) in sy eie handskrif geskryf het; asook (iv) ’n persoon wat tydens die verlyding van die testament die gade van enige van die persone in (i)–(iii) genoem was (art. 4A(1)). (Vir ’n algemene bespreking van art. 4A(1) en (3), sien De Clercq, Schoeman-Malan en De W. van der Spuy 2020:73; De Waal en Schoeman 2015:122–4; Hofmeyr en Paleker 2023:152–4; en Jamneck en Rautenbach 2023:par. 7.4.3.)
Alhoewel die eerste respondent in Solomon nie self by die verlyding van die 2020- testament betrokke was nie, het sy gade se betrokkenheid as getuie tot gevolg dat die eerste respondent statutêr gediskwalifiseer word om enige voordeel ingevolge die 2020-testament te trek. Sodanige voordeel is nie beperk tot die testamentêre bemakings nie, maar ook sy benoeming as eksekuteur. Ingevolge artikel 4A(3) van die Wet op Testamente word ’n benoeming as eksekuteur (tesame met ’n benoeming as trustee of voog) ook as ’n voordeel voortspruitend uit die betrokke testament beskou (sien ook Thomas v Clover 2002 3 SA 85 (N)).
2.2 Beskikbare remedies in artikel 4A(2) van die Wet op Testamente
Artikel 4A(2) maak voorsiening vir drie moontlike remedies tot die beskikking van persone wat ingevolge artikel 4A(1) gediskwalifiseer is om ’n voordeel uit die testament te trek.
Jamneck en Rautenbach (2023:par. 7.4.3) stel voor dat die beskikbaarheid van die remedies in artikel 4A(2)(b)–(c) eers ondersoek moet word siende dat die Meester van die Hoë Hof (hierna die Meester) dié remedies kan toestaan en ’n hofaansoek nie vereis word nie. Indien dié remedies nie in die tersaaklike feite beskikbaar is nie, of artikel 4A(2)(b) nie die gewenste resultaat sal lewer nie, word die proses (en remedie) in artikel 4A(2)(a) aanbeveel, naamlik ’n hofaansoek om die gediskwalifiseerde begunstigde bevoeg te verklaar om voordeel uit die testament te trek. Soos duidelik blyk uit Blom v Brown [2011] 3 All SA 223 (HHA) par. 19 (hierna die Blom-saak), is die beskikbaarheid van artikel 4A(2)(a) nie onderhewig aan die niebeskikbaarheid van artikel 4A(2)(b) nie (par. 19). (Vir ’n bespreking van die Blom-saak, sien De Waal 2011:1048–50 en Hofmeyr en Paleker 2023:154.)
Al drie die remedies in artikel 4A(2) kan (moontlik) op die Solomon feite van toepassing wees en dié drie remedies sal gevolglik toegelig en toegepas word.
2.2.1 Artikel 4A(2)(b)
Artikel 4A(2)(b) bepaal dat ondanks die diskwalifikasie in artikel 4A(1)
[...] ’n persoon of sy gade wat ingevolge die reg insake intestate erfopvolging geregtig sou wees om van die erflater te erf indien daardie erflater intestaat gesterf het, nie aldus onbevoeg [is] om ’n voordeel uit daardie testament te ontvang nie: Met dien verstande dat die waarde van die voordeel wat die betrokke persoon of sy gade ontvang, nie die waarde van die deel waarop daardie persoon of sy gade ingevolge die reg insake intestate erfopvolging geregtig sou wees, oorskry nie.
Sou die oorledene in Solomon intestaat gesterf het, sou die eerste respondent (synde die seun van die oorledene) een van die oorledene se enigste twee intestate erfgename gewees het (sien art. 1(1)(b) van die Wet op Intestate Erfopvolging 81 van 1987). Die eerste respondent kwalifiseer gevolglik vir die remedie beskikbaar in artikel 4A(2)(b), naamlik dat die Meester die diskwalifikasie kan ophef mits die waarde wat die eerste respondent ingevolge die 2020-testament sou ontvang, nie die waarde wat hy intestaat sou geërf het, oorskry nie. Uit hoofde van die 2020-testament sou die eerste respondent die enigste erfgenaam gewees het (tesame met die benoeming as eksekuteur). Ingevolge artikel 1(1)(b) van die Wet op Intestate Erfopvolging sou die boedel in gelyke dele tussen die eerste respondent en die applikant verdeel word. Die waarde van die voordeel ingevolge die 2020-testament oorskry gevolglik die waarde waarop die eerste respondent ingevolge intestate erfopvolging geregtig sou wees.
Jamneck en Rautenbach (2023:par. 7.4.3) dui egter aan dat die persoon in die posisie van die eerste respondent kan volstaan met die waarde wat hy intestaat sou ontvang het (in dié geval die helfte van die boedel) ten einde die opheffing van die diskwalifikasie moontlik te maak sonder die noodsaak om die hof te nader. Indien die persoon egter nie met die mindere waarde tevrede is nie, word ondersoek ingestel na die beskikbaarheid al dan nie van artikel 4A(2)(c) van die Wet op Testamente.
2.2.2 Artikel 4A(2)(c)
Artikel 4A(2)(c) bepaal dat ondanks die diskwalifikasie in artikel 4A(1)
[...] ’n persoon of sy gade wat ’n testament as ’n getuie geattesteer en onderteken het nie aldus onbevoeg [is] om ’n voordeel uit daardie testament te ontvang nie indien die betrokke testament ook deur minstens twee ander bevoegde getuies geattesteer en onderteken is wat geen voordeel uit die betrokke testament ontvang nie.
Op die oog af wil dit voorkom of die remedie in artikel 4A(2)(c) ook in Solomon tot die eerste respondent se beskikking kan wees, synde meer as twee getuies (met ander woorde bykomend tot die eerste respondent se gade wat tot sy diskwalifisering gelei het) by die verlyding van die testament betrokke was, welke getuies geen voordeel uit die 2020-testament trek nie, naamlik die eerste respondent se dogter en die elektrisiën. Artikel 2(1)(a)(iii) van die Wet op Testamente vereis egter dat die getuies die testament in die teenwoordigheid van die erflater en mekaar attesteer en onderteken. In die tersaaklike feite het die eerste respondent se gade en dogter die testament in die oorledene en mekaar se teenwoordigheid geattesteer en onderteken (parr. 12 en 20). Die derde getuie (die elektrisiën) het egter nie die testament in die teenwoordigheid van die ander getuies geattesteer en onderteken nie. Indien die eerste respondent se gade se betrokkenheid as getuie vir die doeleindes van art. 4A(2)(c) buite berekening gelaat word, beteken dit dat die twee ander getuies (te wete die dogter en elektrisiën) nie die testament in mekaar se teenwoordigheid geattesteer en onderteken het nie. Sodanige toedrag van sake sal die testament formeel ongeldig laat.
2.2.3 Artikel 4A(2)(a)
Terwyl die opheffing van die diskwalifikasie ingevolge artikel 4A(2)(b) of (c) geen hofbevel benodig nie, vereis die remedie in artikel 4A(2)(a) wel ’n hofaansoek, naamlik dat ondanks die diskwalifikasie in artikel 4A(1)
[...] ’n hof ’n persoon of sy gade bedoel in subartikel (1) bevoeg [kan] verklaar om ’n voordeel uit ’n testament te ontvang indien die hof oortuig is dat daardie persoon of sy gade nie die erflater by die verlyding van die testament bedrieg of onbehoorlik beïnvloed het nie [...].
Synde ’n sivielregtelike aangeleentheid te wees, moet die eerste respondent die hof op ’n oorwig van waarskynlikheid oortuig dat hy nie die oorledene, tydens die verlyding van die 2020-testament, bedrieg of onbehoorlik beïnvloed het nie (sien Blom parr. 19, 21 en 24; Theron v Master of the High Court [2001] 3 All SA 507 (NK); Beukes v Master of the High Court Pretoria [2014] JDR 0708 (GNP); Longfellow v BOE Trust Ltd [2010] ZAWCHC 117).
3. Solomon-saak: die applikant se aansoek, respondent se teenaansoek en regsvrae
Die applikant in Solomon doen aansoek om die 2020-testament onuitvoerbaar te verklaar ten einde ingevolge artikel 1(1)(b) van die Wet op Intestate Erfopvolging te kan erf (par. 1).
Die eerste respondent het egter ’n teenaansoek gebring tot die effek dat: (a) die Meester die 2020-testament ingevolge artikel 2(3) van die Wet op Testamente moet aanvaar vir die doeleindes van die Boedelwet 66 van 1965 ten spyte van die nievoldoening aan die formaliteitsvereistes gestel in artikel 2(1)(a)(iii) van die Wet op Testamente; asook (b) hy ingevolge artikel 4A(2)(a) van die Wet op Testamente bevoeg verklaar word om voordeel uit hoofde van die 2020-testament te trek (par. 2).
Gebaseer op die eerste respondent se twee bede, formuleer regter Hofmeyr die volgende twee regsvrae, naamlik (par. 18):
Regsvraag 1: Of die 2020-testament deur die oorledene opgestel of verly is, bedoel is om sy testament te wees soos vereis in artikel 2(3) van die Wet op Testamente; en
Regsvraag 2: Of die eerste respondent gediskwalifiseer moet word om ’n voordeel (insluitend sy aanstelling as eksekuteur) ingevolge die testament te trek met verwysing na artikel 4A(2)(a) van die Wet op Testamente.
4. Solomon-saak: beslissing en kommentaar
4.1 Regsvraag 1: artikel 2(3) van die Wet op Testamente
4.1.1 Regter Hofmeyr se benadering tot artikel 2(3)
Artikel 2(3) staan alom bekend as die “kondoneringsremedie” aangesien dit die bevoegdheid aan die howe verleen om die Meester te verplig om ’n vormgebrekkige dokument as testament vir die doeleindes van die boedelberedderingsproses te aanvaar. Artikel 2(3) van die Wet op Testamente bepaal:
Indien ’n hof oortuig is dat ’n dokument of die wysiging van ’n dokument wat opgestel of verly is deur ’n persoon wat sedert die opstel of verlyding daarvan oorlede is, bedoel was om sy testament of ’n wysiging van sy testament te wees, gelas die hof die Meester om daardie dokument, of die dokument soos gewysig, vir die doeleindes van die Boedelwet, 1965 (Wet 66 van 1965), as testament te aanvaar ofskoon dit nie aan al die vormvereistes vir die verlyding of wysiging van testamente bedoel in subartikel (1) voldoen nie.
Die gebrek in die 2020-testament word in Solomon toegeskryf aan die nievoldoening aan die vereistes gestel in artikel 2(1)(a)(iii) van die Wet op Testamente (verkeerdelik deur WnR Hofmeyr na verwys as art. 2(1)(iii)), naamlik dat die getuies die testament in mekaar se teenwoordigheid moet attesteer en teken. Die 2020-testament is deur drie getuies geattesteer en geteken, maar die derde getuie (die elektrisiën) se attestasie en ondertekening het nie in die teenwoordigheid van die ander twee getuies plaasgevind nie (par. 20).
Regter Hofmeyr kom tot die gevolgtrekking dat die feite van Solomon juis die rede vir die insluiting van artikel 2(3) (tesame met art. 4A(2)) tot die Wet op Testamente is (par. 39). Die kondoneringsvereistes van artikel 2(3) word deur regter Hofmeyr soos volg opgesom: (a) dat die tersaaklike dokument deur die (nou) oorlede persoon opgestel of verly is; en (b) dat die oorledene die bedoeling gehad het dat dié dokument as sy/haar testament moet dien (par. 23). (Sien ook Bekker v Naude 2003 5 SA 173 (HHA); Van der Merwe v The Master 2010 6 SA 544 (HHA); en Van Wetten v Bosch 2004 1 SA 348 (HHA).)
Volgens regter Hofmeyr is daar geen dispuut dat die oorledene die outeur van die dokument was nie siende, onder andere, dat die testateur die testament in sy eie handskrif uitgeskryf het. Die feite (vanuit die bewoording van die dokument asook die omringende omstandighede) dui voorts daarop dat die oorledene die bedoeling gehad het dat die 2020-dokument as sy testament moet dien (parr. 25–8). Gevolglik beslis regter Hofmeyr dat sy genoodsaak is om die Meester te beveel om die dokument as die oorledene se testament te aanvaar (par. 28).
4.1.2 Kommentaar op regsvraag 1
Regter Hofmeyr se formulering van regsvraag 1 is gebaseer op die eerste respondent se teenaansoek dat die Meester die 2020-testament ingevolge artikel 2(3) van die Wet op Testamente moet aanvaar vir die doeleindes van die Boedelwet 66 van 1965 ten spyte van die nievoldoening aan die formaliteitsvereistes gestel in artikel 2(1)(a)(iii) van die Wet op Testamente. Soos genoem, is regter Hofmeyr van mening dat artikel 2(3) juis voorsiening maak vir gevalle soos wat in die feite van Solomon uitgespeel het (par. 39).
Daar word aan die hand gedoen dat die 2020-testament nooit kondonering nodig gehad het nie, aangesien dit uit die staanspoor ’n formeel geldige testament daargestel het ongeag die statutêre diskwalifikasie van die eerste respondent. Sodanige opinie sal met verwysing na die tersaaklike formaliteitsvereistes in artikel 2(1)(a) van die Wet op Testamente toegelig word. Aangesien die afwesigheid van ’n kommissaris van ede nooit in die uitspraak ter sprake gekom het nie, veronderstel dit dat die testateur nie die testament by wyse van die maak van ’n merk onderteken het nie (sien art. 1 van die Wet op Testamente rakende die definisie van “onderteken”) of van ’n amanuensis gebruik gemaak het nie. Artikel 2(1)(a)(v) word gevolglik nie as tersaaklike formaliteitsvereistes vir Solomon beskou nie.
Ondertekening deur die testateur: Artikel 2(1)(a)(i) vereis dat “die testament aan die end daarvan deur die erflater onderteken word”. (Sien in hierdie verband Kidwell v The Master 1983 1 SA 509 (OK); Tshabalala v Tshabalala 1980 1 SA 134 (O); en Hofmeyr en Paleker 2023:92.) Sodanige ondertekening moet voorts (en ingevolge artikel 2(1)(a)(ii)) in die teenwoordigheid van twee of meer bevoegde getuies wat gelyk teenwoordig is deur die erflater aangebring word. Terwyl dit onseker is of die oorledene die dokument reeds voor die attestasie en ondertekening deur die getuies geteken het, met ander woorde of die ondertekening deur die testateur in die teenwoordigheid van die getuies plaasgevind het of nie, maak artikel 2(1)(a)(ii) wel voorsiening vir die “erkenning” van die handtekening deur die testateur. Indien die testament meer as een bladsy beslaan, vereis artikel 2(1)(a)(iv) dat die testateur elke bladsy (anders as die laaste bladsy wat aan die “end daarvan” onderteken moet word), enige plek op die bladsy(e) moet onderteken. Aangesien die testateur se ondertekening van die testament nie as rede vir die nievoldoening aan die formaliteitsvereistes in die feite of uitspraak genoem word nie, word daar aanvaar dat daar aan artikel 2(1)(a)(ii) en (iv) (indien laasgenoemde van toepassing is) voldoen is.
Attestasie en ondertekening deur die getuies: Artikel 2(1)(a)(iii) vereis dat die “bedoelde getuies” die testament in die teenwoordigheid van die testateur en van mekaar geattesteer en onderteken moet word. Die “bedoelde getuies” verwys na die “twee of meer bevoegde getuies” wat ingevolge artikel 2(1)(a)(i) teenwoordig moet wees wanneer die testateur die testament onderteken. ’n Bevoegde getuie word in artikel 1 van die Wet op Testament omskryf as “iemand wat veertien jaar of ouer is en op die tydstip wanneer hy ’n testament attesteer, nie onbevoeg is om in ’n geregshof getuienis af te lê nie [...]”. Nêrens in die uitspraak word die bevoegdheid van die getuies in geskil gebring nie. Uit die uitspraak blyk dit dat regter Hofmeyr se hantering van die 2020-testament as formeel ongeldig ontstaan uit die feit dat al drie getuies nie in mekaar se teenwoordigheid die testament geattesteer en onderteken het nie (par. 20). Artikel 2(1)(a)(iii) vereis ’n minimum van twee bevoegde getuies. Indien (en soos wel uit die uitspraak blyk) die enigste nienakoming van die formaliteitsvereistes geleë is in die feit dat die drie getuies nie in mekaar se teenwoordigheid was toe hul die testament geattesteer en onderteken het nie, word (soos vroeër genoem) aan die hand gedoen dat die 2020-testament nooit kondonering nodig gehad het nie en uit die staanspoor ’n formeel geldige testament was. Artikel 2(1)(a)(iii) vereis ’n minimum van twee bevoegde getuies. Dié minimum formaliteitsvereiste is nagekom die oomblik toe die eerste respondent se gade en dogter (in mekaar en in die testateur se teenwoordigheid) die testament op 20 Mei 2020 geattesteer en onderteken het. Die testament was gevolglik reeds formeel geldig toe die derde getuie (die elektrisiën) die testament onderteken het. Nóg die ondertekening deur die derde getuie nóg die statutêre diskwalifikasie van die eerste respondent maak die 2020-testament ongeldig. (Sien ook Hofmeyr en Paleker 2023:154.)
4.2 Regsvraag 2: artikel 4A(2)(a) van die Wet op Testamente
4.2.1 Regter Hofmeyr se benadering tot artikel 4A(2)(a)
Nadat regsvraag 1 positief beantwoord is, beweeg regter Hofmeyr na regsvraag 2, naamlik of die eerste respondent gediskwalifiseer moet word om ’n voordeel (insluitend as aanstelling as eksekuteur) ingevolge die testament te trek met verwysing na artikel 4A(2)(a) van die Wet op Testamente.
Soos uitgelig in afdeling 2.2.3 hier bo, vereis artikel 4A(2)(a) van die Wet op Testamente dat die gediskwalifiseerde persoon die hof kan nader om die diskwalifikasie op te hef indien die hof op ’n oorwig van waarskynlikheid daarvan oortuig is dat dié persoon nie die testateur by die verlyding van die testament bedrieg of onbehoorlik beïnvloed het nie. Met verwysing na, onder andere, die eerste respondent se bewering dat nie hy of sy gade enige kennis rakende die bestaan van die 2020-testament voor die 20ste Mei 2020 gedra het nie (par. 34), beslis regter Hofmeyr op hierdie punt dat sy oortuig is dat
[n]either the respondent nor his wife defrauded nor unduly influenced the deceased in the execution of his will. On the contrary, the papers reveal that the first respondent and his family cared for the deceased at the times in his life when he most needed his family’s support. They were there for him during his struggle with cancer, during the challenges that the Covid19 pandemic presented to the world, and they respected his privacy throughout. There is not an iota of evidence that they defrauded or unduly influenced the deceased. (par. 38)
4.2.2 Kommentaar op regsvraag 2
Daar moet uitgewys word dat regter Hofmeyr regsvraag 2 formuleer synde ’n ondersoek te wees rakende die vraag of die eerste respondent gediskwalifiseer moet word om ’n voordeel ingevolge die 2020-testament te trek (insluitend die aanstelling as eksekuteur) (par. 18.2). Die bewoording van artikel 4A(1) dui egter daarop dat die diskwalifikasie ex lege geskied, met ander woorde dat die persone genoem in artikel 4A(1) van die Wet op Testamente outomaties en vanuit regsweë gediskwalifiseer word om enige voordeel uit die testament te trek, insluitend om as eksekuteur aangestel te word (sien art. 4A(3)). Die vraag is gevolglik nie of die eerste respondent gediskwalifiseer moet word om voordeel uit die 2020-testament te trek nie, synde hy reeds van regsweë gediskwalifiseer is. Die vraag is eerder of die statutêre diskwalifikasie opgehef kan word, met ander woorde of die eerste respondent bevoeg verklaar kan word om voordeel uit die 2020-testament te trek in ag genome die bewyslas gestel in artikel 4A(2)(a) van die Wet op Testamente.
Gegewe die eerste respondent se onbetwiste weergawe rakende die verlyding van die testament op 20 Mei 2020, tesame met die onbetwiste feite rakende die verhouding tussen die oorledene en onderskeidelik die eerste respondent en die applikant (par. 17), word saamgestem met regter Hofmeyr se bevinding dat nóg die eerste respondent nóg sy gade die oorledene by die verlyding van die testament bedrieg of onbehoorlik beïnvloed het.
Daar kan egter ook genoem word dat regter Hofmeyr die applikant se bewering dat dit hoogs onwaarskynlik is dat die elektrisiën die 2020-testament nog op dieselfde dag geteken het, onder regsvraag 2 bespreek (par. 35). Volgens regter Hofmeyr sou die bewerings slegs relevant gewees het indien die eerste respondent op artikel 4A(2)(c) van die Wet op Testamente gesteun het, naamlik waar meer as twee getuies die testament geattesteer en onderteken het (par. 35). Dit is ironies dat regter Hofmeyr aandui dat “[...] this issue, even if the applicant were correct, misses the point” (par. 35). Die ironie is daarin geleë dat regter Hofmeyr ’n alreeds formeel geldige testament onder regsvraag 1 kondoneer en terselfdertyd aandui dat die applikant nie daarin slaag om die kern rakende die opheffing van die eerste respondent se diskwalifikasie te begryp nie (“misses the point”); dit terwyl artikel 2(3) streng gesproke slegs ter sprake moes kom indien die eerste respondent wel op artikel 4A(2)(c) gesteun het. Indien die eerste respondent op artikel 4A(2)(c) gesteun het, sou ’n kondoneringsaansoek ingevolge artikel 2(3) gebring moes word, aangesien die twee oorblywende getuies (die dogter en elektrisiën; met ander woorde met uitsluiting van die eerste respondent se gade) nie die testament in mekaar se teenwoordigheid geattesteer en onderteken het soos vereis in artikel 2(1)(a)(iii) van die Wet op Testamente nie.
5. Gevolgtrekking
Die uitdrukking “om ’n reguit hou met ’n krom stok te slaan” verwys na die feit dat die korrekte uitkoms wel bereik is ten spyte van die gebrekkige manier waarop iemand te werk gegaan het. Ten spyte van waarnemende regter Hofmeyr se onnodige toepassing van artikel 2(3) van die Wet op Testamente en die verkeerde bewoording rakende die aard van die ondersoek ingevolge artikel 4A(2)(a) van die Wet op Testamente, word daar aan die hand gedoen dat die regte uitkoms wel bereik is, naamlik dat die eerste respondent deur die hof bevoeg verklaar is om ingevolge die 2020-testament as enkelbegunstigde te erf, asook om as eksekuteur aangestel te word (par. 41(b)). Soos voorheen genoem, is regter Hofmeyr van mening dat die feite van Solomon juis die rede vir die insluiting van nie net artikel 4A(2)(a) nie, maar ook artikel 2(3) tot die Wet op Testamente is. Terwyl daar nie met laasgenoemde saamgestem word nie, is dit inderdaad so dat die remedie in artikel 4A(2)(a) die Solomon-feite soos ’n handskoen pas.
Bibliografie
De Clercq, B., M.C. Schoeman-Malan en P. de W. van der Spuy. 2020. Deceased estates. 12de uitgawe. Durban: LexisNexis.
De Waal, M.J. 2011. The law of succession (including administration of estates) and trusts. Annual Survey of South African Law, 2011(1):1033–72.
De Waal, M.J. en M.C. Schoeman. 2015. Succession. 5de uitgawe. Kaapstad: Juta.
Hofmeyr, G. en M. Paleker. 2023. The law of succession in South Africa. 3de uitgawe. Kaapstad: Juta.
Jamneck, J. en C. Rautenbach (reds.). 2023. The law of succession in South Africa. 4de uitgawe. Kaapstad: Oxford University Press.
- Hierdie artikel se fokusprent is op Canva geskep.
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHET) en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys van goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of approved journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel en kan kwalifiseer vir subsidie deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. |
The post Vonnisbespreking: Om ’n reguit hou met ’n krom stok te slaan first appeared on LitNet.
The post Vonnisbespreking: Om ’n reguit hou met ’n krom stok te slaan appeared first on LitNet.