|
Abstract
Public figure – defamation and infringement of privacy
In this case the facts were briefly as follows: The applicant (Dr Ndlozi), a public figure as senior leader of South Africa’s then third (now fourth) largest political party (the Economic Freedom Fighters) and a member of Parliament, alleged that the Daily Sun had defamed him in three related statements. The first respondent, Media24, is the owner of this newspaper and the second respondent is the editor. The published statements were based on a tip-off received by the third respondent (a journalist) from a confidential source in the SAPS, alleging that a complaint of rape had been made against the applicant to the police.
Wilson J set out, and identified the sting of, the three statements. He then drew the following conclusions: first, that the lawfulness of publishing the statements was an issue that could properly be decided on motion; second, that two out of three of the statements defamed the applicant; and third, that the two defamatory statements were substantially true but that their publication, on the facts of this case, had not been for the public benefit. Based on these conclusions, Wilson J found that the respondents had unlawfully defamed the applicant and that he was entitled to a declaration that this was so. He was also entitled to an order that the two defamatory statements be removed from Media24’s online media platforms. The court ruled that damages and an apology should either be negotiated between the parties or be determined by oral evidence. The judge also made an order setting out how that oral evidence, if it was necessary, should be taken.
Keywords: autonomy; confidentiality; defamation; intent; justification; media; media privilege; motion; negligence; police investigations; privacy; public benefit or interest; public figure; truth; wrongfulness
Trefwoorde: laster; onregmatigheid; openbare belang; openbare figuur; opset; outonomie; media; mediaprivilegie; mosie; nalatigheid; polisie-ondersoeke; privaatheid; regverdiging; vertroulikheid; waarheid
1. Inleiding
In hierdie saak is die applikant (eiser) ’n openbare figuur: Hy is senior leier van Suid-Afrika se toe derde (nou vierde) grootste politieke party (die Economic Freedom Fighters) en ’n lid van die parlement. Openbare figure kan beskryf word as persone wat so in die openbaar bekend geraak het vanweë hul status, amp, beroep, prestasies, doen, late en misdade dat hulle openbare belangstelling gaande maak sonder dat hulle noodwendig aan ’n nuuswaardige gebeurtenis gekoppel is (sien Neethling, Potgieter en Roos 2019:341 vn. 252; Neethling 2014a:113‒4; vgl. Tshabalala-Msimang v Makhanya 2008 6 SA 102 (W) 118). Openbare figure sluit staatsmanne, politici (soos die applikant in casu), sporthelde, besigheidsmagnate, kunstenaars, akteurs en berugte misdadigers in. Die kwessie van die beskerming van openbare figure teen laster het al dikwels die aandag van die howe geniet (sien bv. Manuel v Economic Freedom Fighters, Ndlozi en Malema (13349/2019) [2019] ZAGPJHC 157 (30 May 2019); Cele v Avusa Media Ltd [2013] 2 All SA 412(GSJ); Malema v Rampede 2011 5 SA 631 (GSJ) 636–8; sien ook Burchell 1998:27–8, 275 vn. 21, 310–4).
As uitgangspunt moet beklemtoon word dat openbare figure, soos enige ander persoon, oor al die persoonlikheidsregte beskik wat in die grondwetlike Handves van Regte verskans word (sien Heroldt v Wills 2013 2 SA 530 (GSJ) 547). Dit sluit in die reg op die goeie naam of fama wat onder die reg op waardigheid (art. 10 van die Grondwet) erkenning en beskerming geniet (sien bv. Khumalo v Holomisa 2002 5 SA 401 (KH) 418–9; Mthembi-Mahanyele v Mail & Guardian Ltd 2004 6 SA 329 (HHA) par. 6; Neethling e.a. 2019:197; Neethling en Potgieter 2020:20 vn. 152). Daar word nietemin ’n belangrike beperking geplaas op die beskerming van openbare figure (veral politici) teen laster, naamlik dat die reg van hulle verwag om robuus en dikvellig te wees met betrekking tot negatiewe opmerkings wat oor hulle gemaak word (sien bv. Cele par. 23 e.v.; Malema 634–5; Argus Printing and Publishing Co Ltd v Inkatha Freedom Party 1992 3 SA 579 (A) 588; Delange v Costa 1989 2 SA 857 (A) 861–2; vgl. nietemin Mthembi-Mahanyele 357; sien ook Burchell 1998:229; Neethling e.a. 2019:211; Neethling en Potgieter 2020:405). Dit geld egter nie as die laster kwaadwillig was nie (Mthembi-Mahanyele 357).
Insgelyks moet openbare figure se private lewe – anders as hul openbare lewe – in beginsel ook teen massapublikasie beskerm word (sien Neethling 2014:112 e.v.). In Heroldt 547 sê regter Willis tereg dat alhoewel daar ’n “legitimate public interest in the affairs of public figures” is, dit nie die feit oorskadu dat hulle dieselfde menseregte as alle ander mense het nie: “They too enjoy a constitutional right to privacy.” Die feit dat ’n persoon ’n openbare figuur is, is veral op die gebied van privaatheidskending deur die media ’n belangrike faktor as daar bepaal moet word of die publikasie van sekere inligting in die openbare belang geskied het (sien bv. McQuoid-Mason 1978:218–24; sien ook Jooste v National Media Ltd 1994 2 SA 643 (K) 645–6; Greeff v Protection 4U h/a Protect International 2012 6 SA 393 (GNP) 407–8; Heroldt 542, 547–8;vgl. La Grange v Schoeman 1980 1 SA 885 (OK) 892–3).
2. Feite en regskwessies
Die feite in Ndlozi is kortliks soos volg. Die applikant voer aan dat hy belaster is in drie verbandhoudende bewerings wat deur die Daily Sun gepubliseer is. Die eerste respondent, Media24, is die eienaar en die tweede respondent die redakteur van hierdie koerant. Die bewerings is gebaseer op ’n wenk (“tip-off”) wat ’n joernalis M (die derde respondent) ontvang het van ’n vertroulike bron in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Die wenk was dat die applikant deur ’n vrou van verkragting beskuldig is in ’n klag wat by die SAPD aanhangig gemaak is.
In sy kennisgewing van mosie versoek die applikant ’n verklaring dat elkeen van die bewerings onregmatig en lasterlik is. Hy vra ook om ’n bevel wat die respondente beveel om die bewerings van al sy elektroniese mediaplatforms te verwyder; asook bevele dat die respondente ’n terugtrekking en ’n apologie publiseer; en skadevergoeding ten bedrae van R120 000 betaal word, of dat die respondente aanspreeklik gehou word vir skadevergoeding en dat kwantifisering van skadevergoeding vir die aanhoor van mondelinge getuienis verwys word. Volgens regter Wilson (par. 8) is die kwessies wat in hierdie geval ter sprake is, of die bewerings wat die Daily Sun op grond van die vertroulike bron se wenk gepubliseer het, lasterlik is, en of die bewerings, indien dit wel lasterlik is, nietemin geoorloof is omdat dit waar en in openbare belang is dat dit gepubliseer word.
’n Bykomende kwessie is of hierdie vrae paslik op mosie beslis kan word. Na ’n deeglike bespreking beslis die hof (parr. 18–38) dat die vrae oor die onregmatigheid en lasterlikheid van die bewerings asook die versoek dat die bewerings van die betrokke mediaplatforms verwyder moet word, wel op mosie beslis kan word. Die versoeke om skadevergoeding en ’n terugtrekking en apologie moet egter oorstaan vir beslissing na die aanhoor van mondelinge getuienis.
3. Lasterlikheid van die bewerings
’n Persoon se fama of goeie naam is die agting en aansien wat hy in ’n samelewing geniet. Enige handeling wat die uitwerking het om sy aansien in die gemeenskap te laat daal (dus lasterlik teen hom is), skend gevolglik sy fama (sien Neethling e.a. 2019:199; sien ook Greeff 409). Vir die howe is dit egter nie van belang of ’n persoon se goeie naam werklik of feitelik aangetas is nie.
In Le Roux v Dey 2011 3 SA 274 (KH) 305–6 verg regter Brand dat ’n tweeledige objektiewe ondersoek gedoen moet word om prima facie onregmatigheid daar te stel. Die eerste ondersoek is om die gewone betekenis van die bewering(s) te bepaal. Die ondersoek is objektief van aard en word bepaal deur die lens van die gewone redelike leser van die betrokke bewering. Die tweede ondersoek is om te bepaal of daardie bewering(s) lasterlik is. Hier is die vraag of die betrokkene se aansien nadelig getref word volgens die opvatting van die redelike persoon met normale verstand en ontwikkeling (dus ook ’n objektiewe benadering). Indien wel, is die woorde of gedrag lasterlik van hom en in beginsel (prima facie) onregmatig jeens hom (sien Neethling e.a. 2019:206). Die objektiewe redelike persoon-toets is dus van deurslaggewende belang om te bepaal of bewerings onregmatig en lasterlik is. Volgens Hix Networking Technologies v System Publishers (Pty) Ltd 1997 1 SA 391 (A) 403 waarna regter Wilson (par. 39) verwys, word die kernvraag bevestig: is die betrokkene se aansien “in the estimation of the ordinary intelligent or right-thinking members of society” verlaag? By die toepassing van hierdie toets word aanvaar dat die redelike leser die bewering(s) in konteks sou verstaan. Hy of sy sou nie net in ag geneem het wat uitdruklik gestel is nie, maar ook wat geïmpliseer is (vgl. Le Roux v Dey par. 89).
Nou kan daar geen twyfel bestaan nie dat die eerste twee bewerings lasterlik jeens die applikant is. Regter Wilson (par. 45) stel dit soos volg:
The publication in this case was defamatory because even the report that a complaint of rape has been made to the police lowers a person in the estimation of the ordinary intelligent or right-thinking members of society … There can be little doubt that the publication of the fact that a person has been reported to the police for rape is defamatory, because it will clearly tend to lower the person accused of rape in public esteem.
Die feit dat die klag van verkragting teen die applikant, wat by die polisie ingedien en prima facie lasterlik is, deur die koerant herhaal is, verskoon nie die respondente nie (parr. 41–5; sien ook Neethling e.a. 2019:204). Die sogenaamde “repetition rule” word soos volg deur appèlregter Nugent in Tsedu v Lekota 2009 4 SA 372 (HHA) par. 5 omskryf:
[a] newspaper that publishes a defamatory statement that was made by another is as much the publisher of the defamation as the originator is. Moreover, it will be no defence for the newspaper to say that what was published was merely repetition. For while the truth of the statement (if it is published for the public benefit) provides a defence to an action for defamation, the defence will succeed only if it is shown that the defamation itself is true, not merely that it is true that the statement was made.
Die herhaling van die laster in die koerant bly dus prima facie onregmatig.
4. Vermoedens van onregmatigheid en skuld
Soos regter Wilson (par. 48) uitwys, ontstaan daar twee vermoedens uit die prima facie onregmatigheid van die laster: eerstens, ’n vermoede van onregmatigheid, wat die las op die respondente plaas om die vermoede te weerlê. Dit kan gedoen word deur die bestaan van ’n regverdigingsgrond vir hul optrede aan te toon. Tweedens ontstaan ’n vermoede dat die lasterlike publikasie met opset of animus iniuriandi geskied het. Nou is dit belangrik om daarop te let dat, in die geval van laster deur die pers (soos die koerant in casu), die vermoede van opset deur ’n vermoede van nalatigheid vervang word (sien National Media Ltd v Bogoshi 1998 4 SA 1196 (HHA) 1215; sien ook Neethling e.a. 2018:245). Daarom is dit verkeerd van die regter (par. 49) om steeds te beslis dat die respondente nie die vermoede van opset weerlê het nie.
Wat die vermoede van onregmatigheid betref, maak die respondente staat op twee regverdigingsgronde. Die eerste verweer is dat die gewraakte publikasies waar en in die openbare belang is (par. 50; sien oor hierdie verweer Neethling e.a. 2019:226–9; Neethling en Potgieter 2020:409–10; Brand 2017:151–2).
Die tweede verweer is sogenaamde mediaprivilegie. Hierdie regverdigingsgrond omvat die redelike publikasie van vals of onware lasterlike bewerings deur die media (sien hieroor bv. Bogoshi 1211–3; Khumalo 414–5; Mthembi-Mahanyele 349 e.v.; Neethling e.a. 2019:229–31; Van der Walt en Midgley 152–4; Brand 2017:163; Loubser en Midgley 2017:452–4). Omdat mediaprivilegie te make het met die publikasie van onwaarhede, moet die verweer vanselfsprekend met omsigtigheid toegepas word. Regter Wilson (parr. 51–2) is egter van mening dat hierdie verweer nie op die feite van toepassing is nie “because the sting of the defamatory statements is not that [die applikant] raped someone, but that a complaint to the police was made that he had. This is plainly true: everybody accepts that [die applikant] was the subject of a complaint of rape made to the police; [and] the fundamental truth of the gist of both the defamatory statements cannot seriously be impugned”.
Aangesien die kern of angel (“sting”) van die lasterlike publikasies waar is, is die volgende vraag of die publikasie daarvan in die openbare belang is (parr. 53 e.v.) Volgens regter Wilson is dit miskien die moeilikste aspek van die saak. Die frase openbare belang is nie maklik om te peil nie aangesien dit ’n vae, onsekere en wisselende begrip daarstel (Burchell 1985:210, 214; sien ook Neethling 2014:109 e.v.). In Modiri v Minister of Safety and Security2011 6 SA 370 (HHA) 378 verklaar die hof ook dat dit “a difficult issue to decide” is: “The difficulty arises from the subtleness of the element itself. No exact definition of the concept is readily available in textbooks or decided cases” (sien ook Tshabalala-Msimang 117).
Siende dat dit die geval is, is dit lank reeds gevestigde reg dat dit wat in die openbare belang is, van die gemeenskapsopvatting (boni mores) afhang. Hier speel “the time, the manner and the occasion of the publication” ’n belangrike rol (Graham v Ker (1892) 9 SC 185, 187; Allie v Footworld Stores Distribution Centre (Pty) Ltd 2002 2 SA 433 (HHA) 445; vgl. Modiri 378–80). Regter Wilson (par. 57) verklaar insgelyks:
[O]ur courts have long held that whether the publication of a defamatory statement is for the public benefit depends critically on the content of the statement, and the time, manner and occasion of its publication … The question, in other words, is whether there was an overall public benefit to the publication of the statement in the way it was published, when it was published. Even if there was some benefit to be had from the publication, that must be weighed against any harm to the public interest the publication caused.
Die ondersoek gaan dus verder as die benadeling van die applikant se reputasie. Daarom is dit nodig om te oorweeg of die publikasie meer positief as negatief vir die openbare belang is. Eerstens is dit sonder twyfel in openbare belang om verslag te doen oor sake van geslagsgebaseerde geweld (par. 59). “There is an epidemic of violence against women in this country. It is a national disgrace.” Die geweld teen vroue moet dus by elke geleentheid uitgelig, ondersoek en onthul word. Tweedens moet die posisie van die applikant as gerespekteerde en betroubare openbare figuur beklemtoon word (par. 60). “As a public figure he must expect scrutiny.” En aangesien hy hom volgens die regter (par.6O) uitgespreek het oor geslagsgebaseerde geweld, kan noukeurige ondersoek ook na sy eie private behandeling van vroue gedoen word.
Hierteenoor moet opgeweeg word die openbare belang in die vertroulikheid van polisie-ondersoeke wat in ’n baie vroeë stadium is (parr. 61–3). Sodanige vertroulikheid word erken in Independent Newspaper Holdings Ltd v Suliman [2004] 3 All SA 137 (HHA) par. 47 waar verklaar word dat “as a general rule and save for exceptional circumstances, it will not be for the public benefit or in the public interest to publish the identity of a person suspected of criminal conduct, unless and until that person has actually been charged in open court”.
In Modiri 379 (sien ook Neethling 2014:111) is appèlregter Brand egter nie oortuig dat die Suliman-saak beoog het om ’n onveranderlike presedent te skep wat die rol van die openbare belang as ’n samestellende element van waarheid en openbare belang sou negeer nie. Hy (379) verduidelik dat ons reg die publikasie van ’n lasterlike verklaring nie as geregverdig beskou bloot omdat dit waar is nie. Die hof strewe daarna om ’n behoorlike balans te kry tussen die betrokke belange, te wete die reg op vryheid van uitdrukking van die pers aan die een kant en die regte op die goeie naam en privaatheid van die verdagte aan die ander kant. Daarom kan die hof bevind dat die vryheid van uitdrukking in die besondere omstandighede van die saak swaarder weeg as die slagoffer se reg op privaatheid. Die omgekeerde is natuurlik ook waar. Die vraag of dit in openbare belang is om bekend te maak dat ’n persoon ’n kriminele verdagte is, is hoogs sensitief. Wanneer ’n ondersoek in ’n baie vroeë stadium is, kan die vertroulikheidsbelang om die identiteit van die verdagte te openbaar dus in ’n bepaalde geval die openbare belang troef (vgl. Modiri 379). Regter Brand (380) vervolg dat, in sy strewe na ’n behoorlike balans, moet ’n hof die vraag na die openbare belang op die tersaaklike feite beslis. Hierdie feite kan uiteraard oneindig van ander feite verskil. Hieruit is daar twee gevolge: eerstens moet die howe hulle nie laat beperk deur van “general rules” gebruik te maak nie, en tweedens kan ’n beslissing in een saak oor wat in die openbare belang is, nie as gesag dien in ’n ander saak met ’n verskillende feitestel nie.
Regter Wilson (par. 63) vervolg dat die balansering van die teenoorstaande belange die grondwetlike waardestelsel in ag moet neem [met verwysing na Carmichele v Minister of Safety and Security 2002 1 SACR 79 (KH) par. 56]. Volgens hom omvat hierdie waardesisteem ’n vertroulikheidsbelang wat die verdagte se waardigheid, asook die integriteit van die polisie-ondersoek, beskerm.
In die huidige saak is dit volgens die regter (par. 64) van die allergrootste belang dat die waardigheid en privaatheid van die applikant beskerm word. Hy vervolg:
In NM v Smith 2005 (5) SA 250 (CC) par. 131 [sien Neethling 2008:36 e.v.] the Constitutional Court made clear that the right to privacy “seeks to foster the possibility of human beings choosing how to live their lives within the overall framework of a broader community. The protection of this autonomy, which flows from our recognition of individual human worth, presupposes personal space within which to live this life” … In NM that autonomy encompassed the right to choose whether, when and how to disclose intimate details about one’s private life.
Ter wille van begripshelderheid moet daar in hierdie verband duidelik tussen privaatheid en outonomie onderskei word (sien hieroor Neethling 2018:486 e.v.). Tradisioneel behels privaatheid die terrein van private persoonlike inligting en word dit beskerm teen die onregmatige kennisname van sodanige inligting deur indringing in die private sfeer of die openbaarmaking van private inligting (soos publikasie deur die media) (sien Neethling e.a. 2019:48–9, 311 e.v.). Daar word algemeen aanvaar dat die belanghebbende self die omvang van sy belang in sy privaatheid bepaal. In National Media Ltd v Jooste 1996 3 SA 262 (A) 271–2 verduidelik appèlregter Harms dit so:
A right to privacy encompasses the competence to determine the destiny of private facts … The individual concerned is entitled to dictate the ambit of disclosure eg to a circle of friends, a professional adviser or the public. He may prescribe the purpose and method of the disclosure. Similarly, I am of the view that a person is entitled to decide when and under what conditions private facts may be made public.
So gesien, betrek regter Wilson (par. 64, aangehaal hier bo) se stelling dat volgens NM, outonomie die reg omvat om oor die bekendmaking van private feite te besluit, op die keper beskou dan eintlik privaatheid.
Outonomie stel persone in staat om besluite oor private aangeleenthede soos hul familie, huis en seksuele lewe te neem en uit te voer sonder inmenging van buitestanders of die staat. Sodanige inmenging word dikwels as privaatheidskending tipeer. In ooreenstemming hiermee het die Konstitusionele Hof (sien Neethling 2018:489–90; Neethling e.a. 2019:51–2) die toepassingsgebied van die grondwetlike reg op privaatheid uitgebrei tot sogenaamde “substantive or personal autonomy privacy rights”. Dit is jammer dat die persoonlike outonomie onder die mantel van die reg op privaatheid beskerm word, aangesien ’n mens hier met twee heeltemal verskillende regsverskynsels te make het: aan die een kant die regsubjektiwiteit van die mens, die funksie waarvolgens hy doende in die reg optree (soos om besluite oor sy private lewe te neem) (sien Neethling 2018:490; Neethling e.a. 2019:52), en aan die ander kant die reg op privaatheid as erkende persoonlikheidsreg. So gesien het die diktum in NM par. 131 wat regter Wilson (par. 64) hier bo aanhaal, niks met privaatheidsbeskerming te make nie, maar wel net met die handhawing van outonomie.
Hoe ook al, vervolgens gee regter Wilson aandag aan die vraag of die ware lasterlike publikasies in die openbare belang was. Volgens hom (par. 66) kan dit wel in die openbare belang wees omdat die applikant ’n openbare figuur is en “it is generally in the public interest to know the truth about the character and conduct of public figures”. Hy is nietemin van mening dat hierdie belang oorskadu word deur die belang om die integriteit van die polisie-ondersoek te handhaaf, asook om die eer en privaatheid van die applikant te beskerm gegewe die baie vroeë stadium waarin die polisie-ondersoek was toe die bewerings gepubliseer is. Hy vervolg (par. 67): “It seems to me to be potentially extremely damaging to the capacity of the police to investigate complaints of rape against public figures if the media do not have to exercise caution in the timing and manner of their reporting on a. ongoing investigation.” Ook die wyse waarop die koerant van die verkragtingklag verneem het (die wenk (“tip-off”) wat ’n joernalis van ’n vertroulike bron in die SAPD ontvang het) is nie in die openbare belang nie (par. 68): “The public does not benefit from a news story being prepared in this way.”
Regter Wilson (parr. 69–70) kom tot die volgende slotsom:
Ultimately, I am driven to the conclusion that, on the particular facts of this case, any public benefit derived from reporting the fact of the complaint against (die applikant] was outweighed by the public interest in keeping the complaint private at the very early stage of an investigation at which it was reported … It follows that the respondents have failed to demonstrate that the first and second impugned statements were published for the public benefit. Accordingly, the publication of those statements was defamatory and unlawful.
Afgesien van die hof se bevinding dat die bewerings lasterlik en onregmatig is, word die respondente ook beveel om die bewerings van al die betrokke elektroniese mediaplatforms te verwyder. Voorts beslis die hof dat die applikant se eis om ’n apologie en skadevergoeding aangeleenthede is waaroor die partye moet ooreenkom. Indien hulle nie kan ooreenkom nie, moet mondelinge getuienis daaroor voorgelê word. Regter Wilson het ook ’n bevel gegee wat uiteensit hoe die mondelinge getuienis, indien dit nodig sou wees, gelewer moet word.
5. Slot
In die algemeen verdien die hof se hantering van die tersaaklike beginsels van die reg aangaande laster en privaatheidskending, veral sy benadering tot die rol wat die openbare belang in hierdie verband speel, instemming. Ook die feit dat die applikant ’n openbare figuur is, word deeglik in ag geneem. Al kritiek wat geopper kan word, is dat dit die hof ontgaan het dat animus iniuriandi nie meer ’n aanspreeklikheidsvereiste by die media is nie; nalatigheid is voldoende. Ter wille van begripshelderheid behoort die hof ook ’n duidelike onderskeid tussen outonomie en privaatheid te getref het.
Bibliografie
Brand, F.D.J. 2017. Defamation. The Law of South Africa, 14(2):131.
Burchell, J.M. 1998. Personality rights and freedom of expression: The modern actio injuriarum. Kenwyn: Juta.
—. 1985. The law of defamation in South Africa. Kenwyn: Juta.
Loubser, M. en J.R. Midgley (reds.). 2017. The law of delict in South Africa. 3de uitgawe. Kaapstad: Oxford University Press.
McQuoid-Mason, D.J. 1978. The law of privacy in South Africa. Kaapstad: Juta.
Neethling, J. 2008. The right to privacy, HIV-AIDS and media defendants. South African Law Journal, 125(3):36–46.
—. 2014. Die rol van die openbare belang by laster en privaatheidskending. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 77(1):109–16.
—. 2014a. Openbare figuur: laster, belediging en identiteitskending. LitNet Akademies, 11(2):116−24.
—. 2018. Die reg op privaatheid en outonomie. LitNet Akademies, 15(2):486–95.
Neethling, J. en J.M. Potgieter. 2020. Law of delict. 8ste uitgawe. Durban: LexisNexis.
Neethling, J., J.M. Potgieter en A. Roos. 2019. Neethling on personality rights. Durban: LexisNexis.
Van der Walt, J.C. en J.R. Midgley. 2016. Principles of delict. Durban: LexisNexis.
- Hierdie artikel se fokusprent is op Canva geskep.
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHET) en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys van goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of approved journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel en kan kwalifiseer vir subsidie deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. |
The post Vonnisbespreking: Openbare figuur – laster en privaatheidskending first appeared on LitNet.
The post Vonnisbespreking: Openbare figuur – laster en privaatheidskending appeared first on LitNet.