|
Opsomming
Hierdie studie fokus op die doeltreffendheid van boererate in die behandeling van epilepsie en slapeloosheid deur ’n netwerkwetenskaplike benadering te gebruik. ’n Omvattende en gesaghebbende datastel van boererate, wat verskeie middels, plante en kwale insluit, word deur netwerkwetenskaplike metodes ontleed. Die kernbestanddele vir die behandeling van beide epilepsie en slapeloosheid word geïdentifiseer deur die konsep van die k-kern toe te pas. Daarna word die doeltreffendheid van hierdie bestanddele in die behandeling van die gemelde gesondheidsprobleme ondersoek deur vorige navorsing te bestudeer.
Die studie toon dat sommige van die bestanddele wat voorgestel word vir die behandeling van epilepsie en slapeloosheid in boererate wel voorheen as doeltreffend bewys is. Dit dui daarop dat sommige boererate wel wetenskaplik ondersteun kan word in die behandeling van hierdie gesondheidsprobleme. Die studie sluit af met voorstelle vir verdere navorsing om die doeltreffendheid van boererate in die behandeling van ander gesondheidsprobleme verder te ondersoek.
Trefwoorde: boererate; epilepsie; etnofarmakologie; netwerkwetenskap; slapeloosheid; tradisionele medisyne; tuisgeneesmiddels; volksgeneesmiddels
Abstract
A network science exploration of the effectiveness of Afrikaner home remedies (boererate) with specific reference to the treatment of epilepsy and insomnia
Traditional folk remedies have long been a part of cultural heritage across the globe, offering primary healthcare solutions for various ailments before the advent of modern medicine. In particular, the treatment of neurological and sleep-related disorders such as epilepsy and insomnia have frequently been addressed through such remedies. While folk remedies are considered by some to be no more than superstition or placebo, recent research has shown that in some cases, in particular in terms of medieval European folk remedies, the use of folk remedies can be validated using modern scientific methods.
This study investigates the efficacy of boererate (traditional Afrikaner home remedies), for treating epilepsy and insomnia, through the lens of network science. Boererate, deeply rooted in Afrikaner culture and identity, have evolved from a blend of European and indigenous Khoekhoen medical practices, and are still considered a relevant form of medicine by many Afrikaners today. The study is situated within the emerging field of network ethnopharmacology, which combines history, microbiology, chemistry, data science, and network theory to explore and evaluate historical home remedies and their ingredient combinations.
The primary data source for this research was the authoritative collection of boererate compiled by the Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (2011). This dataset includes a variety of remedies, plants, and ailments, offering a comprehensive overview of Boer medicinal practices. Network analysis was employed to identify key ingredient combinations within these remedies, focusing on those used to treat epilepsy and insomnia, two prevalent central nervous system disorders.
The k-core, a concept in network science that identifies the most densely connected and robust subgraphs within a network, was applied to pinpoint the core ingredients and their combinations in the remedies. This approach allowed for the identification of key ingredient combinations that are frequently used in boererate for specific ailments. The effectiveness of these key ingredients was further evaluated by reviewing existing literature on their medicinal properties and potential for treating epilepsy and insomnia.
The analysis revealed that several ingredients recommended for treating epilepsy and insomnia in boererate have indeed been proven effective in previous studies. For instance, cinnamon, lavender, and peppermint oil, identified as potential candidates for epilepsy treatment, have shown promising results in prior research. Similarly, lavender has been recognised for its potential in treating insomnia. However, not all ingredients in boererate exhibited such scientific backing, suggesting that while some of these remedies may have a scientific basis for treating certain conditions, others may not.
This study underscores the potential of network science in ethnopharmacology, demonstrating its ability to uncover patterns and relationships in traditional medicine that may have been overlooked, using conventional research methods. By applying network analysis to historical remedies like boererate, we can potentially identify promising ingredients and combinations for further investigation and possible integration into modern medicine. This approach not only contributes to the preservation and appreciation of traditional knowledge but also highlights its potential to inform and enrich contemporary healthcare practices.
Keywords: boererate; epilepsy; ethnopharmacology; folk remedies; home remedies; insomnia; network science; traditional medicine
1. Inleiding
In K.O.B.U.S.! se liedjie, “Gee raat” (K.O.B.U.S.! 2002), word die spot gedryf met boererate:
Die Oudstryders sê daar’s ’n raat vir elke kwaal
Ja, elke ou pruim het sy eie verhaal
Van: ‘Hoe om te sorg dat jou hare blink’
Tot: ‘Wat om te doen as jou voete stink’
Hul verwysing elders in dieselfde liedjie na “Verkalkte Kwak” wys daarop dat hulle nie vertroue in boererate het nie. Tuisgeneesmiddels, soos byvoorbeeld gebruik in die Middeleeue in Europa, is voorheen gesien as niks meer as ’n skynmiddel of bygeloof nie. Meer onlangs het dit egter duidelik geword dat sommige tuisgeneesmiddels wel doeltreffend vir die behandeling van sekere kwale en siektes aangewend kan word. Connelly, Lee, Furner-Pardoe, Del Genio en Harrison (2022) bespreek byvoorbeeld hoe hulle interdissiplinêre span binne die veld van etnofarmakologie – die studie van volksgeneesmiddels of kennis vanuit tradisionele en historiese praktyke – reeds doeltreffende bestanddeelsamevoegings in Middeleeuse manuskripte geïdentifiseer het. Abdallah, Benhassou, Sbabou, Janel-Bintz, Choulier, Pitchon en Fechter (2023:742) argumenteer dat sulke studies wys dat: “the science of medicine in medieval times was the result of a very rational and scientific approach, far from the folkloric image it usually has”.
Etnofarmakologie is reeds ’n gevestigde veld, maar wat nuut is in Connelly e.a. (2022) se benadering – hier beskryf as netwerketnofarmakologie – is die samevoeging van geskiedenis, mikrobiologie, chemie, datawetenskap en die netwerkteorie ten einde historiese tuisgeneesmiddels en hul bestanddeelsamevoegings te ondersoek en te evalueer. Connelly, Del Genio en Harrison (2020) stel voor dat die studie van tuisgeneesmiddels met behulp van die netwerkwetenskap bestanddele kan uitlig wat verder getoets kan word om te bepaal of hierdie natuurlike produkte en hul samevoegings met ander vir geneesmiddelontwikkeling geskik is. Die huidige studie sluit veral by Connelly e.a. (2020) se studie aan.
Die huidige studie1 is ’n eerste verkenning van netwerketnofarmakologie, soos deur Connelly e.a. (2022) beskryf, in ’n Suid-Afrikaanse konteks. ’n Gesaghebbende datastel van boererate word met behulp van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (2011) se versameling boererate saamgestel en met behulp van netwerkteoretiese metodes ontleed. Belangrike bestanddeelsamevoegings word geïdentifiseer, waarna ondersoek ingestel word na hierdie bestanddele se doeltreffendheid in die behandeling van twee algemene gesondheidsprobleme. Volgens Castañeda, Cáceres, Velásquez, Rodríguez, Morales en Castillo (2022:4) is angs, depressie, geheueverlies, epilepsie en slapeloosheid die algemeenste sentrale senuweestelselafwykings wat met tradisionele medisyne behandel word, en aangesien die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (2011) se versameling boererate kure vir epilepsie en slapeloosheid insluit, is die fokus op hierdie twee gesondheidsprobleme.
Die artikel is soos volg gestruktureer: Eerstens word ’n oorsig oor etnofarmakologiese studies in ’n verskeidenheid kontekste verskaf, met ’n spesifieke klem op studies wat Middeleeuse tuisgeneesmiddels ondersoek het, asook netwerketnofarmakologiese studies. Hierna word die metodes bespreek wat in die huidige studie toegepas is, en spesifiek hoe die data gekies is, watter netwerkmetodes gebruik is, en hoe bestanddele se doeltreffendheid nagegaan is. Hierna word die resultate bespreek, eerstens met ’n oorsig oor belangrike bestanddele en hul samevoegings vir hierdie boererate oor die algemeen, waarna belangrike bestanddeelsamevoegings in die behandeling van epilepsie en slapeloosheid geïdentifiseer word. Vorige navorsing oor hierdie bestanddele se aktiwiteit word ook bespreek. Die artikel sluit af met slotopmerkings en voorstelle vir verdere navorsing.
2. Vorige navorsing
Een van die tekortkominge van hedendaagse Westerse medisyne, is die toenemende voorkoms van multimiddelweerstandige bakterieë, wat wêreldwyd ’n groeiende gesondheidsrisiko meebring (Abdallah e.a. 2023:741). Historiese tuisgeneesmiddels kan hierdie probleem aanspreek deur infeksies met alternatiewe medikasie te beheer (Harrison en Connelly 2019:115; Oxonius 2022:32; Abdallah e.a. 2023:741). Benewens multimiddelweerstandige bakterieë is daar verskeie ander gesondheidsprobleme wat moontlik beter of ten minste aanvullend behandel kan word deur die gebruik van historiese tuisgeneesmiddels, onder meer vir die behandeling van epilepsie (Bahr, Rodriguez, Beaumont en Allred 2019; Faridzadeh, Salimi, Ghasemirad, Kargar, Rashtchian, Mahmoudvand, Karimi, Zerangian, Jahani, Masoudi, Sadeghian Dastjerdi, Salavatizadeh, Sadeghsalehi en Deravi 2022; Bavarsad, Bagheri, Kourosh-Arami en Komaki 2023). Die henneblomkruid (Hyoscyamus niger), wat wyd tydens die Viking-era in Skandinawië gebruik is (Heimdahl 2009; Oxonius 2022), is byvoorbeeld doeltreffend gevind teen COVID-19 (Kosari, Noureddini, Khamechi, Najafi, Ghaderi, Sehat en Banafshe 2021; Kosari, Khorvash, Sayyah, Ansari Chaharsoughi, Najafi, Momen-Heravi, Karimian, Akbari, Noureddini, Salami, Ghaderi, Amini Mahabadi, Khamechi, Yeganeh en Banafshe 2024). Abdallah e.a. (2023:740) noem dat daar onlangs ’n groter poging in die wetenskap was om historiese tuisgeneesmiddels te herevalueer, en ’n groot verskeidenheid studies is dan ook onlangs onderneem wat die doeltreffendheid van sommige Middeleeuse Europese tuisgeneesmiddels uitgelig het (Watkins, Pendry, Corcoran en Sanchez-Medina 2011; Watkins, Pendry, Sanchez-Medina en Corcoran 2012; Lardos en Heinrich 2013; Dal Cero, Saller en Weckerle 2014; Harrison, Roberts, Gabrilska, Rumbaugh, Lee en Diggle 2015; Staub, Casu en Leonti 2016; Wagner, De Gezelle, Robertson, Robertson, Wilson en Komarnytsky 2017; Harrison en Connelly 2019; Connelly e.a. 2020; Wagner e.a. 2020).
Benewens hierdie herevaluering van tradisionele Europese tuisgeneesmiddels, is daar reeds heelwat studies oor tradisionele medisyne in ander kontekste onderneem, insluitend dié van inheemse Amerikaners (Redvers en Blondin 2020), Australiese inboorlinge (Yeshi, Turpin, Jamtsho en Wangchuk 2022), Sámi (Liu-Helmersson en Ouma 2021; Ouma, Jacobsson en Nilsson 2023), en veral met betrekking tot Indië en Sjina (Salmerón-Manzano, Garrido-Cardenas en Manzano-Agugliaro 2020). In ’n Suid-Afrikaanse konteks is daar onlangs studies gepubliseer oor die tradisionele medisyne van die Boesmans (Low 2008), die Vendas (Magwede, Van Wyk en Van Wyk 2018), die Zoeloes (Mhlongo en Van Wyk 2019), die medisinale gebruik van plante aan die Kaap (Van Wyk 2008), Suid-Afrika oor die algemeen (Scott, Springfield en Coldrey 2004; Mahomoodally 2013; Gebashe, Aremu, Finnie en Van Staden 2019; Masondo, Stafford, Aremu en Makunga 2019), en die oorsprong van boererate (Blackbeard en McNeill 2023). Boererate is alombekend in Suid-Afrika en daar is reeds ’n groot aantal boererate versamel en in boekvorm gepubliseer (Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2011; Smuts 2015). Daar is selfs ’n webblad, www.boererate.com, wat ’n verskeidenheid boererate huisves. Blackbeard en McNeill (2023) noem ook dat verskeie Facebookgroepe boererate uitruil, wat daarop dui dat boererate steeds ’n relevante geneesmiddel vir baie Afrikaners verteenwoordig.
Tuisgeneesmiddels is meer as net geneesmiddels. Dit sluit ook aan by ’n kultuur se erfenis en identiteit. Blackbeard en McNeill (2023:7) voer aan dat boererate sinoniem met die Afrikaneridentiteit in hedendaagse Suid-Afrika bly. Boererate het ontwikkel uit die samekoms van Europese medisyne tydens die sewentiende eeu en Khoekhoen-medisyne, maar dit was tydens die Anglo-Boereoorlog dat boererate ’n “symbolic code of resistance” geword het (Blackbeard en McNeill 2023:10). In die konsentrasiekampe het die gebruik van boererate ’n merker van verset teen Britse oorheersing geword namate die vroue verantwoordelikheid vir hul eie huisgesinne se gesondheid wou neem, en hulle in die proses moes aanpas by skaars hulpbronne. Volgens Blackbeard en McNeill (2023) is hedendaagse boererate die erfgenaam van die boererate wat in die konsentrasiekampe ontwikkel is.
Vir Abdallah e.a. (2023:740) lê die waarde van die studie van historiese geneesmiddels daarin dat bestanddeelsamevoegings bestudeer word, eerder as bestanddele in isolasie, omdat dit moontlik is dat ’n bestanddeel individueel nie ’n sterk aktiwiteit vertoon nie, maar dat die samevoeging van bestanddele ’n noemenswaardige doeltreffendheid kan hê, óf dit kan gebeur dat bestanddele teen mekaar werk (sien ook Harrison, Blower, De Wolf en Connelly 2023). In die reeds genoemde studie van Connelly e.a. (2020), word bestanddeelsamevoegings vanuit die perspektief van die netwerkwetenskap bestudeer. Connelly e.a. (2020) het juis bevind dat die samevoeging van aalwyn vera en borsmelk kan inmeng met die antibakteriese aktiwiteit van heuning, terwyl Harrison e.a. (2023) bevind het dat heuning en asyn mekaar komplementeer.
Die meeste toepassings van die netwerkwetenskap binne die veld van tradisionele medisyne fokus op middel-teiken-wisselwerkingnetwerke (Yang, Kang, Park, Park, Oh en Kim 2013; Li, Li, Ouyang en Li 2015; Liang e.a. 2016; Lin, Liang, Chen, Tsang, Chiou, Liu, Cheng, Lin, Liao, Huang, Chen, Tsai en Li 2019; Jafari, Wang, Amiryousefi en Tang 2020; Ang, Lee, Kim, Choi en Lee 2021) en akupunktuur (Lee, Kim, Lee, Jung, Kim, Jang, Kim, Lee, Park en Chae 2013; Park, Lee, Kim en Park 2017). Die meerderheid van hierdie netwerkstudies fokus op Sjinese medisyne (sien byvoorbeeld Zhang, Kong, Xu, Wang en Hu 2017). Die huidige studie sluit eerder aan by Connelly e.a. (2020) se netwerketnofarmakologiese studie, beide in die fokus op tradisionele Europese tuisgeneesmiddels en in die metode, soos in die volgende afdeling bespreek word.
3. Metodes
3.1 Dataversameling en -verwerking
Die huidige studie gebruik die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (2011) se versameling boererate as databron. Hierdie bron is gekies omdat dit as amptelike publikasie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns as een van die gesaghebbendste bronne rakende hierdie onderwerp geag word. Hierdie boek is geskandeer en in ’n gestruktureerde formaat omgeskakel, wat die rekenaarmatige passing van boererate met bestanddele en die daaropvolgende netwerkontleding bemiddel het. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (2011) se versameling boererate tref ’n onderskeid tussen middels (byvoorbeeld heuning, sout of eiers) en plante (byvoorbeeld roosmaryn, boegoe of kruisement), en hul indeling word hier gevolg. Beide middels en plante word egter in die huidige studie as bestanddele van ’n kuur geag. Middels sluit alles in wat nie plante is nie, maar die middels wat die meeste voorkom, soos weergegee in Tabel 2 hier onder, is middels waarvan die aktiwiteit in ’n laboratorium getoets kan word. Tabel 1 verskaf ’n opsomming van die datastel wat met behulp van hierdie bron saamgestel is.
Tabel 1. ’n Opsomming van die metadata
Veranderlike | Waarde |
Getal kwale | 488 |
Getal kure | 8 704 |
Getal middels | 1 222 |
Getal plante | 952 |
Tabel 2 dui die twintig kwale, middels en plante aan wat die meeste in hierdie bron voorkom. Dit is interessant dat heuning die middel is wat in die meeste kure voorkom, en asyn die vierde meeste, aangesien Connelly e.a. (2020) en Harrison e.a. (2023) ook heuning en asyn uitlig as belangrike middels in Middeleeuse kure. Hierdie bestanddele word later in meer besonderhede bespreek.
Tabel 2. Die twintig kwale, middels en plante wat die meeste in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (2011) se versameling boererate voorkom
Kwaal | Kure | Middels | Kure | Plant | Kure | ||
inflammasie | 212 | heuning | 483 | als: wilde- | 145 | ||
brandwonde | 164 | olie: soet- | 435 | suur: -lemoen | 143 | ||
hoes | 152 | brandewyn | 434 | wynruit | 136 | ||
rumatiek | 140 | asyn | 426 | neut | 115 | ||
keel: keelseer | 136 | eier | 414 | knoffel/knoflok | 113 | ||
roos | 121 | suiker | 323 | uie | 94 | ||
stuipe | 118 | olie: kaster- | 270 | boegoe | 79 | ||
sere | 117 | terpentyn | 250 | kruisement | 75 | ||
aambeie | 116 | kamfer | 229 | naeltjies | 75 | ||
water en watersug | 115 | aluin | 221 | tiemie | 64 | ||
maagkwale: maagwerk | 109 | olie: lyn- | 206 | roosmaryn | 55 | ||
koors | 106 | sout: Engelse | 205 | rosyne | 54 | ||
kroep | 104 | paraffien | 185 | anys | 50 | ||
hart | 103 | sout | 184 | blare: bloekom-/bloegom-/blougom- | 49 | ||
kinkhoes | 100 | melk: soet- | 162 | koffie | 45 | ||
omlope | 99 | wyn | 160 | aartappel/ertappel | 41 | ||
tande: tandpyn | 98 | koeksoda | 149 | tee | 40 | ||
witseerkeel | 97 | salpeter | 149 | als: gewone/mak- | 38 | ||
fyt | 95 | suiker: tee- | 145 | dagga: wilde- | 37 | ||
bloedvergiftiging | 91 | kremetart | 140 | vye: droë | 36 |
3.2 Netwerkmetodes
Connelly e.a. (2020:2) bring die bestudering van bestanddele wat gebruik word in tradisionele geneesmiddels in verband met bestanddeel-resep-netwerkstudies. In sulke studies, soos bespreek in Senekal (2022; 2024), word ’n netwerk saamgestel wat bestaan uit bestanddele en die resepte waarin daardie bestanddele voorkom. Aangesien daar twee soorte nodusse in so ’n netwerk is, staan die netwerk as ’n tweeledige netwerk bekend. Hierdie tweeledige netwerk word dan vir ontledingsdoeleindes na ’n enkelledige netwerk geprojekteer, waar daar óf ’n skakel tussen bestanddele aangedui word wat in dieselfde resep voorkom (genoem ’n bestanddeel-bestanddeel-kovoorkomsnetwerk), óf ’n skakel word aangedui tussen resepte wat bestanddele deel (genoem ’n resep-resep-kovoorkomsnetwerk) (Senekal 2022:657). Vir boererate kan daar dan twee enkelledige netwerkprojeksies geskep word. In navolging van Connelly e.a. (2020) word daar in die huidige studie aan die bestanddeel-bestanddeel-kovoorkomsnetwerk aandag geskenk, alhoewel resultate ook vir die tweeledige bestanddeel-kuur-kovoorkomsnetwerk verskaf word. Tydens die projeksie word daar ’n gewig aan ’n skakel toegeken, soos ook gedoen in Connelly e.a. (2020), wat die aantal kere verteenwoordig wat twee middels saam in ’n kuur voorkom.
Soos wat sommige bestanddeel-resep-netwerkstudies ondersoek instel na die samehang van onderliggende geure in resepte se bestanddele (Senekal 2022:651), ondersoek sommige netwerkstudies van tradisionele geneesmiddels die samehang van bestanddele op grond van hul onderliggende chemiese samestelling, byvoorbeeld Jafari e.a. (2020). Ander netwerkstudies van tradisionele geneesmiddels ondersoek ’n netwerk wat uit bestanddele en die siektes/kwale wat behandel word, bestaan (Connelly e.a. 2020; Ang e.a. 2021), soos sommige bestanddeel-resep-netwerkstudies ook eerder op die samehang tussen resepte op grond van hul bestanddele self fokus (Senekal 2022:651). Die huidige studie sluit aan by laasgenoemde kategorie en ondersoek die netwerk van bestanddele en kure in boererate.
Daar is vele vlakke waarop ’n netwerk (ook genoem ’n grafiek in grafiekteorie) ondersoek kan word en verskeie maatstawwe wat binne die netwerkwetenskap ontwikkel is, kan gebruik word om aspekte van ’n netwerk mee te ontleed. Connelly e.a. (2020) ondersoek die gemeenskapstruktuur van hulle bestanddeel-bestanddeel-kovoorkomsnetwerk deur gebruik te maak van Treviño, Nyberg, Del Genio en Bassler (2015) se algoritme. Connelly e.a. (2020:3) toon dat die netwerk ’n hiërargiese struktuur het met groter gemeenskappe wat bestaan uit kleiner subgemeenskappe wat gemeenskaplike bestanddele deel, wat op hulle beurt uit kleiner subgemeenskappe bestaan, en so aan om kleiner subgemeenskappe te identifiseer totdat hulle drie hoofbestanddeelsamevoegings en vier individuele kernbestanddele geïdentifiseer het. Hierdie hiërargiese struktuur word ook in Senekal (2022:658–9) bespreek in die konteks van bestanddeel-resep-netwerke. In die huidige studie word ’n soortgelyke benadering gevolg deur te fokus op die kern van die netwerk.
Een van die belangrikste strukturele eienskappe van netwerke, wat aanvanklik op Prebisch (1950) se werk gegrond is, is dat hulle ’n kern/periferie-struktuur vertoon, met belangriker nodusse wat in die kern geleë is en minder belangrike nodusse op die periferie (Csermely, London, Wu en Uzzi 2013:111; Nordlund 2018:348). Boonop as die kern hegter verbind as die periferie, oefen dit beheer uit oor die netwerk en bevorder dit robuustheid en stabiliteit (Csermely e.a. 2013:111; Newman 2018:555). Die kern verteenwoordig met ander woorde ’n vorm van middelpuntigheid – soortgelyk aan ander middelpuntigheidsmaatstawwe binne die netwerkteorie, byvoorbeeld Freeman (1979) se graad-, nabyheid- en tussenliggingmiddelpuntigheid, of Brin en Page (1998) se PageRank (’n vorm van eiewaardemiddelpuntigheid) – wat die belangrikste nodusse identifiseer.
Om die kern van ’n netwerk te identifiseer, kan verskillende metodes aangewend word, maar in die huidige studie word op die digtheid van skakels tussen nodusse gefokus. Die nodusse wat die digste verbind is, is dan in die kern geleë en die minsverbinde nodusse op die periferie (Newman 2018:556). Voorbeelde van tegnieke wat die kern van netwerke op grond van die digtheid van skakels identifiseer, sluit in die metodes deur Everett en Borgatti (2000), Boyd, Fitzgerald en Beck (2006), Boyd, Fitzgerald, Mahutga en Smith (2010), García Muñiz en Ramos Carvajal (2006), en Rombach, Porter, Fowler en Mucha (2014; 2017). In die huidige studie word gebruik gemaak van die konsep van die k-kern deur die toepassing van Seidman (1983) se algoritme. Die k-kern is ’n verbinde stel nodusse waar elke nodus aan ten minste k van die ander nodusse verbind is (Newman 2018:178). Met elke toename van k word nodusse verwyder wat minder skakels as k het, wat beteken dat die netwerk wat oorbly, hegter verbind is as dit wat verwyder word. Newman (2018:556) argumenteer dat netwerke ’n gelaagde struktuur het, wat hy met Russiese matriosjka-poppe vergelyk, wat deur die toepassing van die k-kern blootgelê word, want per definisie vorm ’n k-kern ’n geneste stel, met hoër k-kerns wat geheel en al in laer k-kerns ingesluit word. Die maksimum waarde van k verteenwoordig dan die nodusse binne die kern van die netwerk (Newman 2018:178) – as’t ware die laaste pop. Die k-kern word gedefinieer soos in Vergelyking (1), waar die minimum getal skakels (δ) tussen nodusse in subnetwerk H (’n subnetwerk van die hoof netwerk G, dus H ⊆ G) groter of gelyk aan k is (Seidman 1983:4).
δ(H) ≥ k (1)
’n Voordeel van die gebruik van die k-kern bó ander middelpuntigheidsmaatstawwe soos dié van Freeman (1979) of Brin en Page (1998) is dat belangrike nodusse saam met hul skakels deur middel van die k-kern onttrek word, terwyl ander middelpuntigheidsmaatstawwe slegs die belangrikste nodusse identifiseer. In die huidige studie val die fokus nie alleen op die belangrikste nodusse nie, maar ook op hul skakels, en daarom is die k-kern beter geskik vir die huidige doeleindes as ander middelpuntigheidsmaatstawwe. Die rasionaal agter die metodologiese keuses in hierdie studie wentel rondom hierdie doelwit om kernbestanddeelsamevoegings in boererate te identifiseer. Die k-kernontleding is aangewend om op hierdie kernbestanddeelsamevoegings te fokus, aangesien dit die mees onderling verbinde en robuuste subgrafieke binne die netwerk uitlig, wat ooreenstem met die studie se doelwit om belangrike verwantskappe tussen bestanddele te identifiseer. Middelpuntigheidsmaatstawwe soos tussenligging- en nabyheidmiddelpuntigheid is daarom uitgesluit, aangesien die fokus op die belangrikheid van bestanddeelsamevoegings eerder as individuele bestanddele self is. Gemeenskapsopsporingsmetodes, soos die Louvain-metode (sien Senekal 2022), is nie gebruik nie omdat die studie nie daarop gemik is om die algehele struktuur of gemeenskapsvorming van die netwerk te verken nie, maar eerder die mees betekenisvolle samevoegings van bestanddele. Deur die k-kernbenadering te gebruik, is die studie in staat om sy doel om kernbestanddeelsamevoegings te identifiseer direk aan te spreek sonder onnodige fokus op die breër netwerkstruktuur of individuele nodusse.
Die k-kern kan gebruik word om kernbestanddele in die hele netwerk mee te identifiseer, maar dele van die netwerk kan ook onttrek word om sodoende kernbestanddele in die behandeling van spesifieke kwale te identifiseer. In die ontleding wat volg word eerstens kernbestanddele oor die algemeen geïdentifiseer, waarna kernbestanddele in die behandeling van epilepsie en slapeloosheid geïdentifiseer word. Die netwerkontleding is behartig met behulp van Gephi 0.10 (Bastian, Heymann en Jacomy 2009).
3.3 Die doeltreffendheid van middels
Nadat die kernbestanddele en hul skakels geïdentifiseer is, is ’n literatuuroorsig onderneem om bestanddele se doeltreffendheid aan die hand van onlangse navorsing te bepaal. Hiervoor is ’n soektog in die Cochrane Database of Systematic Reviews (https://www.cochranelibrary.com/) in navolging van Connelly e.a. (2020) onderneem, maar omdat sommige bestanddele geen resultate op die Cochrane-databasis opgelewer het nie, is soektogte ook in Google Scholar (https://scholar.google.com/) gedoen ten einde ’n breër basis van studies te kan raadpleeg. Die soekstring wat op beide soekplatforms gebruik is, is [bestanddeel AND kwaal].
3.4. Etiese oorwegings
Aangesien hierdie studie fokus op boererate – tradisionele tuisgeneesmiddels wat deur sommige Afrikaners gebruik word – en uit ’n gepubliseerde boek put, is verskeie etiese oorwegings in gedagte gehou. As ’n lid van hierdie gemeenskap is ek bewus van die behoefte aan kulturele sensitiwiteit in die hantering van hierdie inligting, om te verseker dat dit met respek benader word. Die gebruik van ’n gepubliseerde bron verminder kommer oor intellektuele eiendom, mits behoorlike verwysing gevolg word. Daarbenewens poog ek om hierdie tuisgeneesmiddels akkuraat voor te stel, om enige wanvoorstelling te vermy. Terwyl hierdie studie waardevolle insig in die gebruik van tradisionele middels bied, word daar gepoog om beide die historiese en kulturele betekenis van boererate binne die Afrikanerkonteks te respekteer.
4. Resultate en bespreking
4.1 ’n Oorsig oor die bestanddeel-bestanddeel-kovoorkomsnetwerk
Tabel 3 verskaf ’n oorsig oor die netwerke wat vir die huidige studie saamgestel en ontleed is, en telkens word die aantal nodusse (n), aantal skakels (m), persentasie nodusse binne die k-kern en die waarde van k verskaf. Slegs 3,14% van nodusse in die bestanddeel-bestanddeel-kovoorkomsnetwerk van die hele netwerk hoort tot die k-kern wanneer die maksimum waarde van k, k = 32, as afsnypunt gebruik word. Die maksimum waarde van k word ook vir die tweeledige netwerkvoorstelling en vir die bestanddeel-bestanddeel-kovoorkomsnetwerk vir epilepsie en slapeloosheid verskaf. Die nodusse binne die k-kern word hier onder in Figuur 1 vir die hele bestanddeel-bestanddeel-kovoorkomsnetwerk aangedui, en die k-kern van die bestanddeel-bestanddeel-kovoorkomsnetwerk vir epilepsie en slapeloosheid word later bespreek.
Tabel 3. Die netwerke wat vir die huidige studie saamgestel en ontleed is
Veranderlike | Tweeledig | Bestanddeel-bestanddeel-kovoorkoms-projeksie | Bestanddeel-bestanddeel-kovoorkoms-projeksie (epilepsie) | Bestanddeel-bestanddeel-kovoorkoms-projeksie (slapeloosheid) |
Getal nodusse (n) | 10 867 | 2 167 | 106 | 43 |
Getal skakels (m) | 18 395 | 9 680 | 173 | 28 |
Persentasie nodusse binne die k-kern | 2,05% | 3,14% | 8,49% | 11,63% |
k | 6 | 32 | 8 | 4 |
Figuur 1 dui die k-kern van die bestanddeel-bestanddeel-kovoorkomsnetwerk vir alle boererate aan, met 68 nodusse (n) en 1 517 skakels (m). Hier kan gesien word dat wildeals, asyn, brandewyn, heuning, eier, koeksoda, tiemie, boegoe, Engelse sout, balsemkopiva, suurlemoen, blomswael, kasterolie, soetolie en lynolie almal tot die k-kern van die netwerk behoort. Hierdie is dan die belangrikste bestanddele (middels en plante) in hierdie boererate oor die algemeen.
Figuur 1. Die k-kern van die bestanddeel-bestanddeel-kovoorkomsnetwerk met n = 68, m = 1 517 en k = 32
Klik op die figuur vir ’n groter weergawe.
Die medisinale eienskappe van sommige van hierdie middels is reeds voorheen aangetoon, byvoorbeeld vir heuning (Jull, Cullum, Dumville, Westby, Deshpande en Walker 2015; Norman, Christie, Liu, Westby, Jefferies, Hudson, Edwards, Mohapatra, Hassan en Dumville 2017) en asyn (Bjarnsholt, Alhede, Jensen, Nielsen, Johansen, Homøe, Høiby, Givskov en Kirketerp-Møller 2015; De Castro, Mota, De Oliveira Lima, Batista, De Araújo Oliveira en Cavalcanti 2015; Halstead, Rauf, Moiemen, Bamford, Wearn, Fraise, Lund, Oppenheim en Webber 2015). In die geval van wildeals, daarenteen, is daar nog geen medisinale gebruik gevind nie, ten spyte van verskeie studies wat hierdie kruid ondersoek het (Du Toit en Van der Kooy 2019). Figuur 1 dui daarom ’n versameling bestanddele met gemengde aktiwiteit aan: Nie alles kan as skynmiddel of bygeloof afgemaak word nie, maar alles kan ook nie vir die behandeling van gesondheidsprobleme aanbeveel word nie. Die volgende afdeling bespreek die bestanddele wat met die behandeling van epilepsie en slapeloosheid verbind word in meer besonderhede.
4.2 Middels gebruik in die behandeling van epilepsie
Figuur 2 dui die middels aan wat binne die k-kern van die bestanddeel-bestanddeel-kovoorkomsnetwerk rondom die behandeling van epilepsie aangetref word, met dikker lyne wat aandui dat middels meer gereeld saam voorkom. Geen studies oor die anti-epilepsie werking van brandewyn is vir die huidige ondersoek gevind nie, maar dit mag wees dat brandewyn hoofsaaklik as ’n oplosmiddel dien of die smaak van ander middels verberg. Neute is wel tot ’n mate met epilepsie verbind. ’n Studie deur Kim, Yoon, Lee, Lee, Kim, Kim en Kang (2016) het bevind dat die aangepaste Atkins-dieet, wat neute insluit, voordelig is vir die behandeling van epilepsie by kinders, maar die ketogeniese dieet, wat ook neute insluit, meer geskik as die eerste lyn van dieetterapie by pasiënte <2 jaar oud is. Geen direkte verband tussen neute en anti-epileptiese werking kon egter gevind word nie. Ander middels is wel in ’n verskeidenheid studies met anti-epileptiese aktiwiteit verbind, byvoorbeeld kaneel (Pezzoli, Elhamdani, Camacho, Meystre, González, Le Coutre en Markram 2014; Ahmad, Alshehry en Alharbi 2022; Mojarrad, Asadi, Abdolmaleki, Mirzaee en Zahri 2023), laventel (Bahr e.a. 2019; Faridzadeh e.a. 2022; Bavarsad e.a. 2023) en pepermentolie (Koutroumanidou, Kimbaris, Kortsaris, Bezirtzoglou, Polissiou, Charalabopoulos en Pagonopoulou 2013; Karampour, Arzi en Rahimzadeh 2017; Abdulsahib, Kathem, Al-Radeef en Jasim 2022).
Geen verwysings kon gevind word na wit- of bruindulsies of versterkdruppels se doeltreffendheid ten opsigte van anti-epileptiese aktiwiteit nie, en trouens kon ook nie enige ander toetse van hierdie drie middels gevind word nie. Die hoofbestanddeel in bruindulsies is kaliumasetaat (Clicks 2024a), in witdulsies etielnitriet (Clicks 2024c) en in versterkdruppels kinabas (Clicks 2024b). Kaliumasetaat word gereeld gebruik vir die behandeling van hipokalemie (Veltri en Mason 2015; Datlow, Utarnachitt, Records, Vance en Latimer 2021), en alhoewel elektrolietwanbalanse epileptiese aanvalle kan veroorsaak, is hipokalemie nie ’n algemene oorsaak van epileptiese aanvalle nie (Baratloo, Rouhipour, Forouzanfar, Rahmati en Hashemi 2013). Nietemin is daar ’n verband tussen die funksionering van die senuweestelsel en kaliumvlakke, wat beteken dat bruindulsies nie totaal onverwant aan gesondheidskwessies rondom die sentrale senuweestelsel is nie. Geen verwysings kon gevind word na die gebruik van etielnitriet rondom die behandeling van epilepsie nie. Kinabas se medisinale eienskappe is egter welbekend en word vir die behandeling van verskeie kwale aangewend (Aslam, Jabeen, Ahmad en AL-Huqail 2023). Kinabas bevat kinidien, wat deegliker teen epilepsie getoets is as die bas self, alhoewel gewoonlik met gemengde resultate (Lin, Sang, Yang, Wu, Dong, Ji, Zhang, Wu, Gao en Jiang 2021; Xu, Chen, Yang, Wang, Fang en Li 2022; Liu, Sun, Wang, Wang en Wu 2023).
Die belangrikste middels wat vir die behandeling van epilepsie deur hierdie boererate aanbeveel word (d.i. die k-kern van die netwerk in Figuur 2), word met ander woorde gereeld met anti-epileptiese werking verbind, maar nie sonder uitsondering nie. In die geval van kaneel, laventel en pepermentolie het vorige navorsing ’n direkte verband met anti-epileptiese werking gevind, terwyl ander middels soos neute, bruindulsies en versterkdruppels wel nie direk met anti-epileptiese werking verbind kan word nie, maar hierdie middels is ook nie totaal onverwant aan anti-epileptiese werking nie. Vorige navorsing dui met ander woorde aan dat boererate wat hierdie bestanddele insluit nie in geheel as bygeloof afgemaak kan word nie en daar ’n bewese verband bestaan tussen epilepsie en die behandeling daarvan deur sommige van hierdie middels.
Figuur 2. Die k-kern van die bestanddeel-bestanddeel-kovoorkomsnetwerk rondom die behandeling van epilepsie met n = 9, m = 36 en k = 8
4.3 Middels gebruik in die behandeling van slapeloosheid
Figuur 3 dui die bestanddeel-bestanddeel-kovoorkomsnetwerk rondom middels aan wat in hierdie boererate vir slapeloosheid aanbeveel word. Ten opsigte van slapeloosheid word kaliumasetaat (bruindulsies) gewoonlik eerder as oplosmiddel vir ander middels gebruik, terwyl geen medies bewese gebruike van etielnitriet (witdulsies) vir slapeloosheid gevind kon word nie. Laventel is wel voorheen suksesvol getoets vir die behandeling van slapeloosheid (Chien, Cheng en Liu 2012; Blackburn, Achor, Allen, Bauchmire, Dunnington, Klisovic, Naber, Roblee, Samczak, Tomlinson-Pinkham en Chipps 2017; Lucena, Santos-Junior, Tufik en Hachul 2024). Wyn is tot aan die begin van die 20ste eeu gereeld as oplosmiddel vir medisyne gebruik (Soleas, Diamandis en Goldberg 1997:296), en dit kan ook in hierdie opsig in boererate funksioneer. Alkohol word egter oor die algemeen verbind met ’n verergering van slapeloosheid (Sato, Hisamatsu, Tsumura, Fukuda, Taniguchi, Takeshita en Kanda 2021; Zheng, Yuan, Ma, Liu, VanEvery, Sun, Wu en Gao 2021), en Sato e.a. (2021:61) noem juis dat hierdie feit bots met die algemene opvatting dat alkohol slaap bevorder.
Figuur 3. Die k-kern van die bestanddeel-bestanddeel-kovoorkomsnetwerk rondom die behandeling van slapeloosheid met n = 5, m = 10 en k = 4
5. Bespreking
Die voorafgaande studie het aangedui dat daar ’n aantal kernbestanddele is wat gereeld in hierdie boererate voorkom en wat moontlik ’n verband met die behandeling van hierdie gesondheidsprobleme het. Vir epilepsie is bestanddele soos kaneel, laventel en pepermentolie geïdentifiseer as potensiële kandidate vir doeltreffende behandeling, terwyl neute, bruindulsies en versterkdruppels ook ’n rol kan speel, alhoewel dit nie direk met anti-epileptiese werking verbind is nie. Vir slapeloosheid is laventel as ’n potensiële doeltreffende bestanddeel geïdentifiseer. Dit dui daarop dat hierdie boererate nie bloot skynmiddel of bygeloof is nie, maar wel bestanddele gebruik wat voorheen wetenskaplik met die behandeling van epilepsie en slapeloosheid verbind is (Chien e.a. 2012; Koutroumanidou e.a. 2013; Pezzoli e.a. 2014; Blackburn e.a. 2017; Karampour e.a. 2017; Bahr e.a. 2019; Abdulsahib e.a. 2022; Ahmad e.a. 2022; Faridzadeh e.a. 2022; Bavarsad e.a. 2023, Mojarrad e.a. 2023, Lucena e.a. 2024). In die konteks van tradisionele Skandinawiese medisyne tydens die Viking-era merk Oxonius (2022:33) dat sekere historiese behandelings doeltreffend is; middels was nie net vir vertoon of gekies op grond van ’n vermoede nie, maar was eerder middels gebaseer op ’n vorm van navorsing. Dieselfde word met ander woorde hier ten opsigte van boererate gevind: belangrike middels in die behandeling van epilepsie en slapeloosheid het gereeld ’n verband met wat wetenskaplik bepaal is.
Die feit dat belangrike middels wat in die huidige studie uitgelig is, oorwegend deur vorige navorsing as voordelig in die behandeling van epilepsie en slapeloosheid aangetoon is, moet nie gesien word as ondersteuning vir alle boererate nie. Sommige rate is komies en belaglik, en sulke rate regverdig geen wetenskaplike toetsing nie, maar oor die algemeen kan nie aanbeveel word dat ongetoetste kure vir die behandeling van enige kwale aangewend word nie. Wat die studie wel bevind, is dat daar soms waarde in boererate is, wat verdere ondersoek regverdig.
Anders as Connelly e.a. (2020) kon daar nie in die huidige studie bepaal word of bestanddele mekaar aanvul of ondermyn nie. Dít is ’n groot beperking van die huidige studie, maar hopelik kan toekomstige navorsing op die huidige studie voortbou en hierdie bestanddeelsamevoegings toets.
Vir verdere navorsing kan daar ’n uitbreiding na ander gesondheidsprobleme oorweeg word om ’n breër begrip van die doeltreffendheid van boererate vir verskeie kwale te verkry. Verder kan daar ook ondersoek ingestel word na die invloed van verskillende samevoegings van bestanddele op die doeltreffendheid van boererate vir die behandeling van gesondheidsprobleme.
6. Gevolgtrekking
Hierdie studie het ’n netwerkwetenskaplike benadering gebruik om die doeltreffendheid van boererate vir die behandeling van epilepsie en slapeloosheid te ondersoek. Die studie het aangedui dat daar ’n aantal kernbestanddele is wat gereeld in hierdie boererate voorkom en wat moontlik ’n verband met die behandeling van hierdie gesondheidsprobleme het, maar nie alle bestanddele wat in boererate gebruik word om hierdie gesondheidsprobleme te behandel het ’n bewese invloed nie. Kortom beteken dit dat hierdie kernbestanddele nie slegs as plasebo of bygeloof afgemaak kan word nie, maar soms wetenskaplik bewysbaar is as doeltreffend in die behandeling van hierdie gesondheidskwessies.
Toekomstige navorsing kan ander gesondheidskwessies ondersoek, maar die belangrikste sal wees om bestanddeelsamevoegings te toets. Soos Connelly e.a. (2020) en Harrison e.a. (2023) aandui, kan bestanddele mekaar aanvul of ondermyn, en daarom is dit belangrik om die wisselwerkings tussen bestanddele in boererate verder te ondersoek om die volle potensiaal van hierdie volksgeneeskundige praktyk te bepaal.
Bibliografie
Abdallah, B., H.A. Benhassou, L. Sbabou, R. Janel-Bintz, L. Choulier, V. Pitchon en P. Fechter. 2023. History as a source of innovation in antimicrobial drug discovery. Biomedical and Pharmacology Journal, 16(2):739–52. doi: 10.13005/bpj/2656.
Abdulsahib, W.K., S.H. Kathem, M.Y. Al-Radeef en L.S. Jasim. 2022. Mentha piperita oil exerts an antiepileptic effect in pilocarpine and pentylenetetrazol-induced seizures in mice. Veterinary Medicine International, 2022:4431317. doi: 10.1155/2022/4431317.
Ahmad, M., A.S. Alshehry. en H. Alharbi. 2022. The neuroprotective effects of natural food products cinnamon and curcumin in lithium-pilocarpine induced status epilepticus model. Neurochemical Journal, 16(2):181–9. doi: 10.1134/S1819712422020027.
Ang, L., H.W. Lee, A. Kim, J.-Y. Choi en M.S. Lee. 2021. Network analysis of herbs recommended for the treatment of COVID-19. Infection and Drug Resistance, 14:1833–44. doi: 10.2147/IDR.S305176.
Anoniem. 2024. Mediese inligting en boererate in Afrikaans. http://www.boererate.com (14 Maart 2024 geraadpleeg).
Aslam, S., T. Jabeen, M. Ahmad en A.A. AL-Huqail. 2023. Cinchona. In M. Zia-Ul-Haq, A. Abdulkreem A.A. AL-Huqail, M. Riaz en U. Farooq Gohar (reds.), Essentials of medicinal and aromatic crops. Cham: Springer International Publishing:221–48. doi: 10.1007/978-3-031-35403-8_10.
Bahr, T.A., D. Rodriguez, C. Beaumont en K. Allred. 2019. The effects of various essential oils on epilepsy and acute seizure: A systematic review. Evidence-Based Complementary and Alternative Medicine, 2019:6216745. doi: 10.1155/2019/6216745.
Baratloo, A., A. Rouhipour, M. Forouzanfar, F. Rahmati en B. Hashemi. 2013. Hypokalemia-induced abnormal movements: case report. Trauma Monthly, 18(3):141–4. doi: 10.5812/traumamon.12016.
Bastian, M., S. Heymann en M. Jacomy. 2009. Gephi: An open source software for exploring and manipulating networks. Proceedings of the International AAAI Conference on Web and Social Media, 3(1):361–2.
Bavarsad, N.H., S. Bagheri, M. Kourosh-Arami en A. Komaki. 2023. Aromatherapy for the brain: Lavender’s healing effect on epilepsy, depression, anxiety, migraine, and Alzheimer’s disease: A review article. Heliyon, 9(8):e18492. doi: 10.1016/j.heliyon.2023.e18492.
Bjarnsholt, T., M. Alhede, P.Ø. Jensen, A.K. Nielsen, H.K. Johansen, P. Homøe, N. Høiby, M. Givskov en K. Kirketerp-Møller. 2015. Antibiofilm properties of acetic acid. Advances in Wound Care, 4(7):363–72. doi: 10.1089/wound.2014.0554.
Blackbeard, J. en F.G. McNeill. 2023. The birth of Boererate: women and healing during the South African war. Anthropology Southern Africa, 46(1):7–20. doi: 10.1080/23323256.2022.2158892.
Blackburn, L., S. Achor, B. Allen, N. Bauchmire, D. Dunnington, R. Klisovic, S. Naber, K. Roblee, A. Samczak, K. Tomlinson-Pinkham en E. Chipps. 2017. The effect of aromatherapy on insomnia and other common symptoms among patients with acute leukemia. Oncology Nursing Forum, 44(4):E185–E93. doi: 10.1188/17.ONF.E185-E193.
Boyd, J.P., W.J. Fitzgerald en R.J. Beck. 2006. Computing core/periphery structures and permutation tests for social relations data. Social Networks, 28(2):165–78. doi: 10.1016/j.socnet.2005.06.003.
Boyd, J.P., W.J. Fitzgerald, M.C. Mahutga en D.A. Smith. 2010. Computing continuous core/periphery structures for social relations data with MINRES/SVD. Social Networks, 32(2):125–37. doi: 10.1016/j.socnet.2009.09.003.
Brin, S. en L. Page. 1998. The anatomy of a large-scale hypertextual web search engine. Computer Networks and ISDN Systems, 30(1–7):107–17. doi: 10.1016/S0169-7552(98)00110-X.
Castañeda, R., A. Cáceres, D. Velásquez, C. Rodríguez, D. Morales en A. Castillo. 2022. Medicinal plants used in traditional Mayan medicine for the treatment of central nervous system disorders: An overview. Journal of Ethnopharmacology, 283:114746. doi: 10.1016/j.jep.2021.114746.
Chien, L.-W., S.L. Cheng en C.F. Liu. 2012. The effect of lavender aromatherapy on autonomic nervous system in midlife women with insomnia. Evidence-Based Complementary and Alternative Medicine, 2012:740813. doi: 10.1155/2012/740813.
Clicks. 2024a. Bruindulsies 20ml. https://clicks.co.za/lennon_bruindulsies-20ml/p/414011 (14 Maart 2024 geraadpleeg).
—. 2024b. Versterkdruppels 20ml. https://clicks.co.za/lennon_versterkdruppels-20ml/p/874750 (14 Maart 2024 geraadpleeg).
—. 2024c. Witdulsies 20ml. https://clicks.co.za/lennon_witdulsies/p/874776 (14 Maart 2024 geraadpleeg).
Cochrane. 2024. Cochrane Database of Systematic Reviews. https://www.cochranelibrary.com (14 Maart 2024 geraadpleeg).
Connelly, E., C.I. del Genio en F. Harrison. 2020. Data mining a medieval medical text reveals patterns in ingredient choice that reflect biological activity against infectious agents. mBio, 11(1). doi: 10.1128/mBio.03136-19.
Connelly, E., C. Lee, J. Furner-Pardoe, C.I. del Genio en F. Harrison. 2022. A case study of the ancientbiotics collaboration. Patterns (New York, N.Y.), 3(12):100632. doi: 10.1016/j.patter.2022.100632.
Csermely, P., A. London, L.-Y. Wu en B. Uzzi. 2013. Structure and dynamics of core/periphery networks. Journal of Complex Networks, 1(2):93–123. doi: 10.1093/comnet/cnt016.
Dal Cero, M., R. Saller en C.S. Weckerle. 2014. The use of the local flora in Switzerland: a comparison of past and recent medicinal plant knowledge. Journal of Ethnopharmacology, 151(1):253–64. doi: 10.1016/j.jep.2013.10.035.
Datlow, M.D., R.B. Utarnachitt, C. Records, W. Vance en A.J. Latimer. 2021. Field diagnosis and treatment of hypokalemic periodic paralysis by a helicopter emergency medical services team. Air Medical Journal, 40(3):185–7. doi: 10.1016/j.amj.2020.12.008.
De Castro, R.D., A.C.L.G. Mota, E. de Oliveira Lima, A.U.D. Batista, J. de Araújo Oliveira en A.L. Cavalcanti. 2015. Use of alcohol vinegar in the inhibition of Candida spp. and its effect on the physical properties of acrylic resins. BMC Oral Health, 15:52. doi: 10.1186/s12903-015-0035-5.
Du Toit, A. en F. van der Kooy. 2019. Artemisia afra, a controversial herbal remedy or a treasure trove of new drugs? Journal of Ethnopharmacology, 244:112127. doi: 10.1016/j.jep.2019.112127.
Everett, M.G. en S.P. Borgatti. 2000. Peripheries of cohesive subsets. Social Networks, 21(4):397–407. doi: 10.1016/S0378-8733(99)00020-9.
Faridzadeh, A., Y. Salimi, H. Ghasemirad, M. Kargar, A. Rashtchian, G. Mahmoudvand, M.A. Karimi, N. Zerangian, N. Jahani, A. Masoudi, B. Sadeghian Dastjerdi, M. Salavatizadeh, H. Sadeghsalehi en N. Deravi. 2022. Neuroprotective potential of aromatic herbs: rosemary, sage, and lavender. Frontiers in Neuroscience, 16:909833. doi: 10.3389/fnins.2022.909833.
Freeman, L.C. 1979. Centrality in social networks conceptual clarification. Social Networks, 1(3):215–39. doi: 10.1016/0378-8733(78)90021-7.
García Muñiz, A.S. en C. Ramos. 2006. Core/periphery structure models: An alternative methodological proposal. Social Networks, 28(4):442–8. doi: 10.1016/j.socnet.2005.11.001.
Gebashe, F., A.O. Aremu, J.F. Finnie en J. van Staden. 2019. Grasses in South African traditional medicine: A review of their biological activities and phytochemical content. South African Journal of Botany, 122:301–29. doi: 10.1016/j.sajb.2018.10.012.
Google. 2024. Google Scholar. https://scholar.google.com (14 Maart 2024 geraadpleeg).
Halstead, F.D., M. Rauf, N.S. Moiemen, A. Bamford, C.M. Wearn, A.P. Fraise, P.A. Lund, B.A. Oppenheim en M.A. Webber. 2015. The antibacterial activity of acetic acid against biofilm-producing pathogens of relevance to burns patients. Plos One, 10(9):e0136190. doi: 10.1371/journal.pone.0136190.
Harrison, F., A. Blower, C. de Wolf en E. Connelly. 2023. Sweet and sour synergy: exploring the antibacterial and antibiofilm activity of acetic acid and vinegar combined with medical-grade honeys. Microbiology, 169(7). doi: 10.1099/mic.0.001351.
Harrison, F. en E. Connelly. 2019. Could medieval medicine help the fight against antimicrobial resistance?. In C. Jones, C. Kostick en K. Oschema (reds.), Making the medieval relevant. How medieval studies contribute to improving our understanding of the present. Berlyn: De Gruyter, ble. 113–34.
Harrison, F., A.E.L. Roberts, R. Gabrilska, K.P. Rumbaugh, C. Lee en S.P. Diggle. 2015. A 1,000-year-old antimicrobial remedy with antistaphylococcal activity. mBio, 6(4):e01129. doi: 10.1128/mBio.01129-15.
Heimdahl, J. 2009. Bolmörtens roll i magi och medicin under den svenska förhistorien och medeltiden. Fornvännen, 104(2):112–28.
Jafari, M., Y. Wang, A. Amiryousefi en J. Tang. 2020. Unsupervised learning and multipartite network models: A promising approach for understanding traditional medicine. Frontiers in Pharmacology, 11:1319. doi: 10.3389/fphar.2020.01319.
Jull, A.B., N. Cullum, J.C. Dumville, M.J. Westby, S. Deshpande en N. Walker. 2015. Honey as a topical treatment for wounds. Cochrane Database of Systematic Reviews, 2015(3):CD005083. doi: 10.1002/14651858.CD005083.pub4.
K.O.B.U.S.! 2002. Gee raat, in Kobus!.
Karampour, N., A. Arzi en M. Rahimzadeh. 2017. The effect of hydroalcoholic extract of mentha piperita on pentylenetetrazol-induced convulsion in mice. National Journal of Physiology, Pharmacy and Pharmacology, 7(11):1. doi: 10.5455/njppp.2017.7.0936027102017.
Kim, J.A., J.-R. Yoon, E.J. Lee, J.S. Lee, J.T. Kim, H.D. Kim en H.-C. Kang. 2016. Efficacy of the classic ketogenic and the modified Atkins diets in refractory childhood epilepsy. Epilepsia, 57(1):51–8. doi: 10.1111/epi.13256.
Kosari, M., F. Khorvash, M.K. Sayyah, M. Ansari Chaharsoughi, A. Najafi, M. Momen-Heravi, M. Karimian, H. Akbari, M. Noureddini, M. Salami, A. Ghaderi, J. Amini Mahabadi, S.P. Khamechi, S. Yeganeh en H.R. Banafshe. 2024. The influence of propolis plus Hyoscyamus niger L. against COVID-19: A phase II, multicenter, placebo-controlled, randomized trial. Phytotherapy Research, 38(1):400–10. doi: 10.1002/ptr.8047.
Kosari, M., M. Noureddini, S.P. Khamechi, A. Najafi, A. Ghaderi, M. Sehat en H.R. Banafshe. 2021. The effect of propolis plus Hyoscyamus niger L. methanolic extract on clinical symptoms in patients with acute respiratory syndrome suspected to COVID-19: A clinical trial. Phytotherapy Research, 35(7):4000–6. doi: 10.1002/ptr.7116.
Koutroumanidou, E., A. Kimbaris, A. Kortsaris, E. Bezirtzoglou, M. Polissiou, K. Charalabopoulos en O. Pagonopoulou. 2013. Increased seizure latency and decreased severity of pentylenetetrazol-induced seizures in mice after essential oil administration. Epilepsy Research and Treatment, 2013:532657. doi: 10.1155/2013/532657.
Lardos, A. en M. Heinrich. 2013. Continuity and change in medicinal plant use: the example of monasteries in Cyprus and historical iatrosophia texts. Journal of Ethnopharmacology, 150(1):202–14. doi: 10.1016/j.jep.2013.08.026.
Lee, S.-H., C.-E. Kim, I.-S. Lee, W.-M. Jung, H.-G. Kim, H. Jang, S.-J. Kim, H. Lee, H.-J. Park en Y. Chae. 2013. Network analysis of acupuncture points used in the treatment of low back pain. Evidence-Based Complementary and Alternative Medicine, 2013:402180. doi: 10.1155/2013/402180.
Li, Y., R. Li, Z. Ouyang en S. Li. 2015. Herb network analysis for a famous TCM doctor’s prescriptions on treatment of rheumatoid arthritis. Evidence-Based Complementary and Alternative Medicine, 2015:451319. doi: 10.1155/2015/451319.
Liang, H., H. Ruan, Q. Ouyang en L. Lai. 2016. Herb-target interaction network analysis helps to disclose molecular mechanism of traditional Chinese medicine. Scientific Reports, 6:36767. doi: 10.1038/srep36767.
Lin, Y.-J., W.-M. Liang, C.-J. Chen, H. Tsang, J.-S. Chiou, X. Liu, C.-F. Cheng, T.-H. Lin, C.-C. Liao, S.-M. Huang, J. Chen, F.-J. Tsai en T. -M. Li. 2019. Network analysis and mechanisms of action of Chinese herb-related natural compounds in lung cancer cells. Phytomedicine: International Journal of Phytotherapy and Phytopharmacology, 58:152893. doi: 10.1016/j.phymed.2019.152893.
Lin, Z., T. Sang, Y. Yang, Y. Wu, Y. Dong, T. Ji, Y. Zhang, Y. Wu, K. Gao en Y. Jiang. 2021. Efficacy of anti-seizure medications, quinidine, and ketogenic diet therapy for KCNT1-related epilepsy and genotype-efficacy correlation analysis. Frontiers in Neurology, 12:834971. doi: 10.3389/fneur.2021.834971.
Liu-Helmersson, J. en A. Ouma. 2021. Sámi traditional medicine: practices, usage, benefit, accessibility and relation to conventional medicine, a scoping review study. International Journal of Circumpolar Health, 80(1):1924993. doi: 10.1080/22423982.2021.1924993.
Liu, R., L. Sun, Y. Wang, Q. Wang en J. Wu. 2023. New use for an old drug: quinidine in KCNT1-related epilepsy therapy. Neurological Sciences, 44(4):1201–6. doi: 10.1007/s10072-022-06521-x.
Low, C. 2008. Khoisan medicine in history and practice. Köln: Rüdiger Köppe.
Lucena, L., J.G. Santos-Junior, S. Tufik en H. Hachul. 2024. Effect of a lavender essential oil and sleep hygiene protocol on insomnia in postmenopausal women: A pilot randomized clinical trial. Explore (New York, N.Y.), 20(1):116–25. doi: 10.1016/j.explore.2023.07.004.
Magwede, K., B.-E. van Wyk en A. E. van Wyk. E. 2018. An inventory of Vhavenḓa useful plants. South African Journal of Botany, doi: 10.1016/j.sajb.2017.12.013.
Mahomoodally, M.F. 2013. Traditional medicines in Africa: an appraisal of ten potent African medicinal plants. Evidence-Based Complementary and Alternative Medicine, 2013:617459. doi: 10.1155/2013/617459.
Masondo, N.A., G.I. Stafford, A.O. Aremu en N.P. Makunga. 2019. Acetylcholinesterase inhibitors from southern African plants: An overview of ethnobotanical, pharmacological potential and phytochemical research including and beyond Alzheimer’s disease treatment. South African Journal of Botany, 120:39–64. doi: 10.1016/j.sajb.2018.09.011.
Mhlongo, L.S. en B.-E. van Wyk. 2019. Zulu medicinal ethnobotany: new records from the Amandawe area of KwaZulu-Natal, South Africa. South African Journal of Botany, 122:266–90. doi: 10.1016/j.sajb.2019.02.012.
Mojarrad, F., A. Asadi, A. Abdolmaleki, S. Mirzaee en S. Zahri. 2023. Preparation of cinnamon-coated cerium oxide nanoparticles and evaluation of their anticonvulsant effect in rats. Pharmaceutical Chemistry Journal, 57(5):648–55. doi: 10.1007/s11094-023-02933-x.
Newman, M. 2018. Networks. Oxford: Oxford University Press. doi: 10.1093/oso/9780198805090.001.0001.
Nordlund, C. 2018. Power-relational core–periphery structures: Peripheral dependency and core dominance in binary and valued networks. Network Science, 6(3):348–69. doi: 10.1017/nws.2018.15.
Norman, G., J. Christie, Z. Liu, M.J. Westby, J.M. Jefferies, T. Hudson, J. Edwards, D.P. Mohapatra, I.A. Hassan, J.C. Dumville. 2017. Antiseptics for burns. Cochrane Database of Systematic Reviews, 7(7):CD011821. doi: 10.1002/14651858.CD011821.pub2.
Ouma, A., L. Jacobsson en L.-M. Nilsson. 2023. Sámi traditional medicine and complementary and alternative medicine – a descriptive study of use within the Sámi population of Sweden. International Journal of Circumpolar Health, 82(1):2222908. doi: 10.1080/22423982.2023.2222908.
Oxonius, A. 2022. Magic and medicine. A study of magical healing in pre-Christian Scandinavia. MA-verhandeling, Uppsala Universitet.
Park, J.-Y., S.-H. Lee, S.-Y. Kim en H.-J. Park. 2017. Literature review and network analysis on the pain disease approach of saam acupuncture method. Korean Journal of Acupuncture, 34(2):88–99. doi: 10.14406/acu.2017.011.
Pezzoli, M., A. Elhamdani, S. Camacho, J. Meystre, S.M. González, J. le Coutre en H. Markram. 2014. Dampened neural activity and abolition of epileptic-like activity in cortical slices by active ingredients of spices. Scientific Reports, 4:6825. doi: 10.1038/srep06825.
Prebisch, R. 1950. The economic development of Latin America and its principal problems. New York: United Nations Department of Economic Affairs.
Redvers, N. en B. Blondin. 2020. Traditional indigenous medicine in North America: A scoping review. Plos One, 15(8):e0237531. doi: 10.1371/journal.pone.0237531.
Rombach, M.P., M.A. Porter, J.H. Fowler en P.J. Mucha. 2014. Core-periphery structure in networks. SIAM Journal on Applied Mathematics, 74(1):167–90. doi: 10.1137/120881683.
Rombach, P., M.A. Porter, J.H. Fowler en P.J. Mucha. 2017. Core-periphery structure in networks (revisited). SIAM Review, 59(3):619–46. doi: 10.1137/17M1130046.
Salmerón-Manzano, E., J.A. Garrido-Cardenas en F. Manzano-Agugliaro. 2020. Worldwide research trends on medicinal plants. International Journal of Environmental Research and Public Health, 17(10). doi: 10.3390/ijerph17103376.
Sato, R., T. Hisamatsu, H. Tsumura, M. Fukuda, K. Taniguchi, H. Takeshita en H. Kanda. 2021. Relationship between insomnia with alcohol drinking before sleep (Ne-Zake) or in the morning (Mukae-Zake) among Japanese farmers. Alcohol (Fayetteville, N.Y.), 93:57–62. doi: 10.1016/j.alcohol.2020.11.005.
Scott, G., E.P. Springfield en N. Coldrey. 2004. A pharmacognostical study of 26 South African plant species used as traditional medicines. Pharmaceutical Biology, 42(3):186–213. doi: 10.1080/13880200490514032.
Seidman, S.B. 1983. Network structure and minimum degree. Social Networks, 5(3):269–87. doi: 10.1016/0378-8733(83)90028-X.
Senekal, B.A. 2022. Wat eet Afrikaners? ’n Verkenning van die bestanddeel-resep-netwerk in Afrikaanse resepte. LitNet Akademies, 19(3):648–70.
—. 2024. ’n Visuele verkenning van Suid-Afrika se posisie in die globale bestanddeel-resep-netwerk. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, 43(1):14–28.
Smuts, D. 2015. Boererate: Heruitgawe van Danie Smuts se versameling skreeusnaakse tradisionele boererate. Kaapstad: Penguin Random House.
Soleas, G.J., E.P. Diamandis en D.M. Goldberg. 1997. Wine as a biological fluid: History, production, and role in disease prevention. Journal of Clinical Laboratory Analysis, 11(5):287–313. doi: 10.1002/(SICI)1098-2825.
Staub, P.O., L. Casu en M. Leonti. 2016. Back to the roots: A quantitative survey of herbal drugs in Dioscorides’ De Materia Medica (ex Matthioli, 1568). Phytomedicine: International Journal of Phytotherapy and Phytopharmacology, 23(10):1043–52. doi: 10.1016/j.phymed.2016.06.016.
Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 2011. Volksgeneeskuns in Suid-Afrika. Pretoria: Protea Boekhuis.
Treviño, S., A. Nyberg, C.I. del Genio en K.E. Bassler. 2015. Fast and accurate determination of modularity and its effect size. Journal of Statistical Mechanics: Theory and Experiment, 2015(2):P02003. doi: 10.1088/1742-5468/2015/02/P02003.
Van Wyk, B.-E. 2008. A review of Khoi-San and Cape Dutch medical ethnobotany. Journal of Ethnopharmacology, 119(3):331–41. doi: 10.1016/j.jep.2008.07.021.
Veltri, K.T. en C. Mason. 2015. Medication-induced hypokalemia. P & T: A Peer-Reviewed Journal for Formulary Management, 40(3):185–90.
Wagner, C., J. de Gezelle en S. Komarnytsky. 2020. Celtic provenance in traditional herbal medicine of medieval Wales and classical antiquity. Frontiers in Pharmacology, 11:105. doi: 10.3389/fphar.2020.00105.
Wagner, C., J. de Gezelle, M. Robertson, K. Robertson, M. Wilson en S. Komarnytsky. 2017. Antibacterial activity of medicinal plants from The Physicians of Myddvai, a 14th century Welsh medical manuscript. Journal of Ethnopharmacology, 203:171–81. doi: 10.1016/j.jep.2017.03.039.
Watkins, F., B. Pendry, O. Corcoran en A. Sanchez-Medina. 2011. Anglo-Saxon pharmacopoeia revisited: A potential treasure in drug discovery. Drug Discovery Today, 16(23–24):1069–75. doi: 10.1016/j.drudis.2011.07.002.
Watkins, F., B. Pendry, A. Sanchez-Medina en O. Corcoran. 2012. Antimicrobial assays of three native British plants used in Anglo-Saxon medicine for wound healing formulations in 10th century England. Journal of Ethnopharmacology, 144(2):408–15. doi: 10.1016/j.jep.2012.09.031.
Xu, D., S. Chen, J. Yang, X. Wang, Z. Fang en M. Li. 2022. Precision therapy with quinidine of KCNT1-related epileptic disorders: A systematic review. British Journal of Clinical Pharmacology, 88(12):5096–112. doi: 10.1111/bcp.15479.
Yang, D.H., J.H. Kang, Y.B. Park, Y.J. Park, H.S. Oh en S.B. Kim. 2013. Association rule mining and network analysis in oriental medicine. Plos One, 8(3):e59241. doi: 10.1371/journal.pone.0059241.
Yeshi, K., G. Turpin, T. Jamtsho en P. Wangchuk. 2022. Indigenous uses, phytochemical analysis, and anti-inflammatory properties of Australian tropical medicinal plants. Molecules, 27(12). doi: 10.3390/molecules27123849.
Zhang, Q.-R., X.-J. Kong, H.-Y. Xu, Y.-T. Wang en Y.-J. Hu. 2017. Progress of studies on traditional Chinese medicine based on complex network analysis. World Journal of Traditional Chinese Medicine, 3(3):28. doi: 10.4103/wjtcm.wjtcm_7_17.
Zheng, D., X. Yuan, C. Ma, Y. Liu, H. VanEvery, Y. Sun, S. Wu en X. Gao. 2021. Alcohol consumption and sleep quality: a community-based study. Public Health Nutrition, 24(15):4851–8. doi: 10.1017/S1368980020004553.
Eindnota
1 Hierdie studie is moontlik gemaak deur befondsing van die Erfenisstigting se Navorsingstrust.
- Hierdie artikel se fokusprent is geskep deur Conscious Design en is verkry op Unsplash.
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHET) en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys van goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of approved journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel en kan kwalifiseer vir subsidie deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. |
The post "Gee raat": ’n Netwerkwetenskaplike verkenning van die doeltreffendheid van boererate met spesifieke verwysing na die behandeling van epilepsie en slapeloosheid first appeared on LitNet.
The post "Gee raat": ’n Netwerkwetenskaplike verkenning van die doeltreffendheid van boererate met spesifieke verwysing na die behandeling van epilepsie en slapeloosheid appeared first on LitNet.