Quantcast
Channel: LitNet Akademies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 778

Orania na 60 jaar: rigtingwysers vir Orania III uit ’n literatuuroorsig van Orania II en ander bronne

$
0
0

Orania na 60 jaar: rigtingwysers vir Orania III uit ’n literatuuroorsig van Orania II en ander bronne

Jannie Rossouw, besoekende professor, Wits Besigheidskool, Universiteit van die Witwatersrand

LitNet Akademies Jaargang 21(3)
ISSN 1995-5928
https://doi.org/10.56273/1995-5928/2024/j21n3a1

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

In die 60 jaar sedert die aanvanklike stigting van Orania kom twee duidelik onderskeibare tydperke na vore wanneer die geskiedenis van die dorp ontleed word. Gedurende die eerste tydperk van 1963 tot 1990 was Orania (Orania I in hierdie navorsing) ’n dorp in besit en onder beheer van die voormalige Departement van Waterwese. Die tweede tydperk (Orania II) het in 1991 begin, met die herskikking van die dorp as ’n Afrikaner-enklave. Orania II het nou sy vestigingsjare as ’n wit Afrikaner-enklave ontgroei; daarom die idee van Orania III as die volgende stap in die dorp se ontwikkeling.

Ora-koepons is in Orania II in omloop en “ora” word in die algemene spreektaal gebruik wanneer daar na geldelike bedrae verwys word. Die ora word een tot een teen die Suid-Afrikaanse rand uitgereik en word met Φ aangedui. Gevolglik is Orania II se huishoudelike en persoonlike inkomste in ora bereken. Navorsingsdata wat teen die einde van 2021 ingesamel is, is gebruik om inkomstevlakke in die dorp te beraam. Die totale persoonlike jaarlikse inkomste van Orania II is op sowat Φ300 miljoen geraam en die jaarlikse huishoudelike inkomste op sowat Φ200 miljoen. Die jaarlikse omset van besighede in Orania II is teen die einde van 2021 op sowat Φ282 miljoen geraam.

Die doel van hierdie navorsing is om riglyne uit die literatuur en ander bronne te ontwikkel waarop Orania III kan voortbou. Uit die navorsing is die volgende as rigtingwysers vir Orania III geïdentifiseer: plaaslike bestuur; die strewe na groeiende selfbeskikking; verblyfreg; die rol van die Solidariteit Beweging en kapitaalaanwending; bevolkingsgroei en behuisingsontwikkeling met gepaardgaande infrastruktuur; volhoubare benutting van hulpbronne; kapitaalaanwending; die OSK Koöperatiewe Bank; selfwerksaamheid; die dissiplinêre kode en dorpsreëls; en die Afrikanerkultuur en -identiteit.

Die ideaal om Orania se inwonertal tot 10 000 vanaf die huidige vlak van sowat 2 875 te laat aanwas, sal teen die historiese bevolkingsgroeikoers sowat 15 jaar neem. Groei van hierdie omvang kan egter die aard van Orania III, in vergelyking met die huidige aard van Orania II, verander. Om hierdie rede moet die rigtingaanwysers behou word om te verseker dat die karakter van Orania III, ten spyte van ekonomiese ontwikkeling en ’n groeiende aantal inwoners, steeds getrou bly aan die oogmerke tydens die aankoop van die dorp en met die ontwikkeling van Orania II.

Trefwoorde: Afrikaans; ekonomiese toestande; kerkgenootskappe; kultuurfeeste; ontstaansgeskiedenis; openbare vakansiedae; ora; Orania; OSK Koöperatiewe Bank; selfbeskikking; selfwerksaamheid; skole

 

Abstract

Orania after 60 years: pointers for Orania III from a literature review of Orania II and other sources

In the 60 years since its initial establishment, two clearly distinguishable periods emerge when analysing the history of Orania. During the first period from 1963 to 1990, Orania was a town under the ownership and control of the former Department of Water Affairs (Orania I). The second period commenced in 1991, with the establishment of Orania II as a white Afrikaner enclave. Orania II has now outgrown its establishment years as an Afrikaner enclave; hence the notion of Orania III as the next step in the town’s development.

The aim of this research is to provide an overview of academic literature on Orania II and other literature to assess pointers for the town’s further development.

The establishment of Orania commenced with the construction of a town on the farm Vluytjeskraal, with a nearby coloured neighbourhood, Grootgewaagd, and a compound for black workers. The town was renamed Orania in 1965, with Grootgewaagd retaining its name until 1991. Orania and Grootgewaagd were built to house the employees (and their families) of the Department who worked on the irrigation canal scheme from the Vanderkloof Dam at the time. After the completion of most of the parts of the irrigation project, the town depopulated. It was purchased in 1991 for the purpose of developing a white Afrikaner enclave.

Very little is known of the town, town development and other events before 1991. Orania I and its satellites (Grootgewaagd and the compound) as a small town were simply not interesting enough to attract attention. Orania only appeared on the horizon of the media and academic researchers after the town was purchased for the establishment of an Afrikaner enclave, called Orania II in this research.

Orania II is organised on the basis of a share block scheme and residents purchase properties in a share block. This ensures a degree of control over the inflow of new residents, who have to apply for residency. This system of control ensures that Orania II retains its identity as a white Afrikaner enclave.

The population of Orania II grows by about 9% per annum. Owing to the increase in the number of the town’s residents, the development of business enterprises and housing followed. During this period of growth of Orania II, tensions among inhabitants developed about wide-ranging aspects such as schools in the town and church congregations. This leaves little doubt about the fact that the development of Orania III will not always be an easy process.

Orania II has its own system of local town management, which is one of the unique aspects of the town. This structure of local management entrusts considerable authority to the town council and supports the unique nature of Orania II. In this research, local government by the town council is identified as an important pointer to be retained for Orania III. The town council is also responsible for the disciplinary code and rules of the town.

Orania II applies the principle of own labour utilisation (“selfwerksaamheid” in Afrikaans). With little exception, only residents of Orania II are permitted to work in the town. This principle supports the town’s character as an Afrikaner enclave.

The OSK Co-operative Bank is the local bank in Orania II. The bank grants home loans on properties purchased within a share block, thus supporting the domestic residential property market in Orania II. Without this availability of capital, property development and transfer will be severely curtailed.

Capital formation is a challenge in Orania II, with the town generating limited savings. The Solidarity Movement supports investment in Orania II through the Orania Development Company. Economic development in Orania II will be severely limited without this continued support of the Solidarity Movement.

The aim of growing self-determination is also a pointer emerging from the analysis of Orania II. This objective is actively supported by the majority of the town’s inhabitants.

Other unique aspects of Orania II that Orania III can also build on pertain to community development and cultural activities. This includes the application of several public holidays unique to Orania II as well as town festivals.

Orania II is the only town in South Africa with a “community currency”. The Orania Sakekamer (chamber of commerce) issues ora coupons as vouchers linked to the South African rand. Vouchers can be used in cash transactions in the town. As the issuance of currency is a monopoly power of the South African Reserve Bank, the ora cannot be called a currency. The ora is abbreviated as Φ and is issued at a rate of Φ1,00 to R1,00. Residents prefer describing amounts in ora, rather than in rand, but rand is used in this research to indicate values, except where otherwise specified.

Research data collected at the end of 2021 was used to estimate income levels in the town. The total personal annual income of Orania II was estimated at some Φ300 million. Annual household income in 2021 was estimated at some Φ200 million. Resolving this difference in estimates is beyond the scope of this research, but the estimates nevertheless provide a basis for future calculation of growth in economic activity in Orania III. Research data for the turnover of 220 businesses in Orania II was also collected by the end of 2021. Annual business turnover as at that date is estimated at some Φ282 million.

The ideal of increasing Orania’s population to 10 000 from the current level of around 2 875 will take around 15 years at the historical population growth rate. However, growth of this magnitude can change the character of Orania III, compared to the current nature of Orania II. For this reason, the identified pointers must be retained to ensure that the character of Orania III remains true to the objectives at the time of the purchase of the town in 1991.

Keywords: Afrikaans; church associations; cultural festivals; economic conditions; establishment; ora; Orania; OSK Co-operative Bank; own labour; public holidays; schools; self-determination

 

1. Inleiding1

In die 60 jaar sedert die aanvanklike stigting van Orania kom twee duidelik onderskeibare tydperke na vore wanneer die geskiedenis van die dorp ontleed word. Gedurende die eerste tydperk van 1963 tot 1990 was Orania ’n dorp onder beheer van die voormalige Departement van Waterwese (Orania I). Die tweede tydperk het in 1991 begin. Die aankoop van die dorp met die oog op die vestiging van Orania as ’n Afrikaner-enklave is daardie jaar afgehandel. In hierdie navorsing word dit as die einde van Orania I en begin van Orania II beskryf.

Orania is op die suidelike oewer van die Oranjerivier in die Noord-Kaapprovinsie van Suid-Afrika geleë. Die dorp is sowat 43 kilometer oos van Hopetown, die naaste dorp. Vanderkloof is sowat 49 kilometer vanaf Orania in ’n suidoostelike rigting. Orania is sowat 160 kilometer suid van Kimberley. Figuur 1 dui aan dat Orania naby die middelpunt van Suid-Afrika geleë is.

Figuur 1. Ligging van Orania op ’n kaart van Suid-Afrika aangedui
Bron: Wikipedia 2024

Orania word as een dorp beskryf en bedryf, maar bestaan uit verskillende woonbuurte. Figuur 2 toon die dorpsuitleg aan en dui die belangrikste woonbuurte, geografiese bakens, monumente, museums, skole, openbare ontspanningsterreine en so meer aan.

Figuur 2. Uitleg van Orania
Bron: Orania 2016
Klik hier vir ’n groter weergawe van die figuur.

Figuur 3 toon ’n straatkaart van Orania II. Op hierdie kaart is die biblioteek aangedui in Kleingeluk, wat voorheen Grootgewaagd was, terwyl die CVO-skool ’n aanduiding is van waar die kampong voorheen was. Die Orania Beweging se kantoor, soos aangedui, is in Orania-wes, terwyl die monumentkoppie in Orania-oos is. Die R369-roete wat aangedui is, skei die oostelike en westelike kante van Orania.

Figuur 3. Straatkaart van Orania
Bron: Orania Beweging s.j.c.
Klik hier vir ’n groter weergawe van die figuur.

Orania II het nou sy vestigingsjare as ’n Afrikaner-enklave ontgroei en staan op die vooraand van ’n nuwe groei- en ontwikkelingsfase. Die rigting en wyse waarop die dorp voortaan gaan groei, is afhanklik van keuses wat nou gemaak moet word. Om hierdie rede word die benaming Orania III in hierdie artikel gebruik om te verwys na die volgende stap in die dorp se verdere ontwikkeling, na die twee voorafgaande fases wat duidelik onderskei kan word. Hierdie artikel bied ’n oorsig van akademiese literatuur sedert die stigting van Orania en gebruik die literatuur en ander bronne om rigtingwysers vir die dorp se toekomstige ontwikkeling te identifiseer.

Baie min literatuur dek die dorp, dorpsontwikkeling en ander gebeure voor 1991 (Senekal 2021:541). Orania II het inderwaarheid eers op die horison van die media en akademiese navorsers verskyn nadat die dorp vir die vestiging van ’n Afrikaner-enklave aangekoop is. Selfs in die tydperk ná 1991 is beperkte literatuur wat enigsins as akademies of as navorsing beskou kan word, gepubliseer. Die media het egter heelwat aandag aan nuusgebeure op Orania II sedert 1991 aandag gegee (sien Senekal 2021).

Die struktuur van die res van die artikel is soos volg: Die ligging en ontstaansgeskiedenis van Orania (Orania I) word in afdeling 2 bespreek. Afdeling 3 bespreek navorsings- en ander akademiese literatuur wat oor Orania II handel. Afdeling 4 bespreek die aankoop en vestiging van Orania as ’n Afrikaner-enklave (Orania II). In afdeling 5 word Orania II se kenmerkende aspekte, soos dit in die literatuur aangestip word, bespreek. Afdeling 6 oorweeg ander kenmerkende aspekte van Orania II en ander literatuur wat op Orania II betrekking het. By wyse van gevolgtrekkings, oorweeg afdeling 7 die rigtingwysers vir Orania III.

 

2. Die vestiging en ontvolking van Orania I (Orania)

Die stigting van die dorp kan tot in 1963 teruggevoer word, toe ’n aanvang gemaak is met die vestiging van ’n dorp op gedeelte 8 van die plaas Vluytjeskraal 149. Afgesien van ’n dorp vir wit inwoners, is ’n nabygeleë bruin woonbuurt, Grootgewaagd, en ’n kampong vir swart werkers ook ontwikkel. Vanaf 1965 is die dorp as Orania bekend, met Grootgewaagd wat sy naam tot in 1991 behou het en die kampong wat nooit formeel benoem is nie.

Orania I en Grootgewaagd is opgerig vir huisvesting vir die werknemers (en hul gesinne) van die destydse Departement van Waterwese wat op twee besproeiingskanaalskemas uit die Vanderkloofdam werksaam was, naamlik die Rama-kanaal en die Sarel Hayward-kanaal (Boshoff 2012:385). Volgens Visser en Visser (2022:134) was die naam van die eerste kanaal egter Ramah, eerder as Rama. Die kampong het huisvesting verskaf vir enkellopende swart werkers.

Volgens Senekal (2021:532) het daar vroeg in 1982 sowat 40 of 50 huisgesinne op Orania I gewoon wat behuising by die Departement gehuur het. Na ’n besluit om weens finansiële besnoeiings nie met bouwerk aan die besproeiingskanaalskema voort te gaan nie, het die dorp ontvolk. Volgens Boshoff (2012:385) het die destydse Departement van Waterwese die dorp “ ... aan elke ander departement aangebied, want die strukture was sterk”. Omdat daar geen belangstelling was nie, is dit “... toe maar afgebreek en die materiaal is verkoop. Tientalle huise het in die slag gebly voordat dit seker iemand se gewete gepla het en die afbrekery beëindig is” (Boshoff 2012:385). Voorts verklaar Boshoff (2012:385) dat “[w]at oorgebly het, op tender uitgesit [is] ... ” om verkoop te word. Orania I in ’n gehawende toestand was die grondslag waarop Orania II se ontwikkeling begin het.

Orania I, Grootgewaagd en die kampong is in 1991 aangekoop met die oog op die ontwikkeling van ’n Afrikanervolkstaat, soos in afdeling 4 bepreek word. Die ontvolking van Orania I, Grootgewaagd en die kampong het die geskiedenis van Orania I afgesluit en die aankoop van die dorp en satelliete het die vestiging van Orania II ingelui.

 

3. Navorsings- en ander akademiese literatuur oor Orania (I en II)

Die navorsings- en ander literatuur oor Orania I en Orania II is betreklik beperk, hoewel daar heelwat mediaberigte oor verskeie aspekte van en gebeure in Orania II gepubliseer is. Senekal (2021) gee ’n volledige oorsig oor hierdie mediaberigte en dien dus as ’n belangrike naslaanbron oor mediaverwysings na Orania II.

Hoewel betreklik beperk in totale omvang, bestaan daar uiteenlopende literatuurbronne oor die geskiedenis van Orania II en die dorp se ontwikkeling as uitlewing van ’n volkstaatgedagte vir Afrikaners. In sy outobiografie bespreek prof. Carel Boshoff (Carel senior) die aankoop en vestiging van Orania II binne die konteks van die gedagte aan ’n volkstaat (2012:384–89). Boshoff was getroud met ’n dogter van dr. H.F. Verwoerd.

Die oogmerk van groeiende selfbeskikking binne die konteks van Orania II waarmee die inwoners hulself vereenselwig, stem grootliks ooreen met die Verwoerdiaanse ideale van die 1950’s en 1960’s. Hierdie ideale, wat onder meer selfbeskikking vir verskillende volkere ingesluit het, het in die 1950’s en 1960’s onder leiding van Verwoerd as eerste minister van Suid-Afrika gestalte gekry. Die oordeel oor Verwoerdiaanse idealisme en selfbeskikking het met verloop van tyd verander. Volgens mnr. Carel Boshoff IV2 het Verwoerd se “[...] voorkeur vir sentrale beplanning van hom ’n eg moderne ‘sosiale ingenieur’ gemaak” (Boshoff 2022:110). Boshoff voeg by dat dit, veral by terugskoue, “[...] maklik gekritiseer word, maar dit neem nie weg dat Verwoerd tydgenootlik as ’n goeie en sterk leier gereken is [...] [nie]” (2022:110).

Boshoff (Carel senior) het ’n leidende rol gespeel in die aankoop en ontwikkeling van Orania II sedert 1991 (2012:384–89). Boshoff verduidelik dat die Afrikanervryheidstigting3 (Avstig), wat op 21 Maart 1988 gestig is, se doel was om ’n volkstaat vir die Afrikaner te verwesenlik (2012:362 en 366). Avstig was egter nie die enigste organisasie met hierdie oogmerk nie. Volgens Boshoff (2012:366) was ander organisasies met dieselfde oogmerk:

  • Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) onder leierskap van mnr. Eugène Terre’Blanche
  • Boerestaatkomitee onder leierskap van mnr. Robert van Tonder
  • Boere-Vryheidsbeweging onder leierskap van mnr. Jan Groenewald
  • Transvaalse Separatiste.

Volgens Boshoff (2012:366) het hierdie bewegings en Avstig nie veel gemeen gehad nie. Een van die probleme was ’n totale gebrek aan ooreenstemming oor die ligging en grense van ’n moontlike volkstaat.

Me. Annatjie Boshoff (prof. Carel Boshoff se suster) beskryf die vestiging en ontwikkeling van Orania II as Afrikaner-enklave in groot detail in haar outobiografie (Boshoff 2020). Sy beskryf onder meer Orania II se unieke stelsel van volkseie openbare vakansiedae, asook die talle kultuurfeeste wat op die dorp plaasvind (Boshoff 2020). Sekere aspekte wat Boshoff (2020) bespreek, word in ander afdelings van hierdie navorsing gedek.

Boshoff (2020:281–84) sluit ook vier notas oor haar herinneringe aan Orania II se pioniers in, asook “herinneringsbriewe” wat geskryf is deur 22 van Orania II se intrekkers wat in die eerste 10 jaar (en in enkele gevalle selfs tot 20 jaar) na die aankoop van Orania II in die dorp gevestig het. Waar toepaslik, is inligting hieruit in hierdie navorsing gebruik, want hierdie notas en herinneringsbriewe bevat inligting oor onder meer die gebrek aan sake-ondernemings en dienste tydens Orania II se pioniersjare.

De Klerk (2014) belig Orania II se ekonomiese en bevolkingsgroei sedert 1991. De Klerk (2014) se primêre fokus is egter op inisiatiewe om groei vanaf Orania II na Orania III te verseker. In hierdie konteks identifiseer De Klerk (2014) onder meer tereg die belangrike rol van ’n groeiende selfbeskikkingsideaal, eie plaaslike bestuur en selfwerksaamheid. Hy belig ook die behoefte aan kapitaalvorming ten einde groei te ondersteun.

Joubert, Laäs, Laäs, Rossouw en Vermeulen (2022) bespreek die Orania Spaar- en Koöperatiewe Bank (OSK Koöperatiewe Bank) binne die konteks van Orania. Volgens Joubert e.a. (2022) speel die OSK Koöperatiewe Bank ’n sentrale rol in die ontwikkeling van Orania II en spesifiek ten opsigte van eiendomsontwikkeling. Die OSK Koöperatiewe Bank word in ’n volgende afdeling van hierdie navorsing bespreek.

Kotzé en Senekal (2018) analiseer die Twitter-platform om die diskoers betreffende Orania II te ontleed. Die bevinding van hul navorsing is dat Orania II meestal in ’n negatiewe lig uitgebeeld word en as ’n rassistiese gemeenskap beskou word (Kotzé en Senekal 2018). Voorts word Orania II bespreek in die konteks van ander kwessies wat Afrikaners direk raak, byvoorbeeld plaasaanvalle, eerstetaalonderrig en grondonteiening sonder vergoeding (Kotzé en Senekal 2018).

Kotze, Schoeman, Carow en Schmitz e.a. (2020) ontleed Orania I en II se verskillende fases van ontwikkeling sedert oprigting as ’n dorp deur die destydse Departement van Waterwese. Kotze e.a. (2020) is van mening dat landbou-ontwikkeling rondom Orania II onder meer tot bestendige groei in die dorp se bevolking bygedra het. Hul navorsingsbevinding is dat die gesag wat deur die dorpsraad (“village council” in die oorspronklike teks) van Orania II uitgeoefen word om as hekwagter op te tree oor inwoners wat in die dorp toegelaat word, tot gevolg het dat die dorp uitsluitlik wit Afrikaners as inwoners het (Kotze e.a. 2020). Die behoud van ’n Afrikaneridentiteit ondersteun die oorkoepelende mikpunt van die meeste van Orania II se inwoners, maar Kotze e.a. (2020) is verkeerd in hul navorsingsbevinding om enige magte in hierdie verband aan die dorpsraad toe te dig. Verblyfreg word deur die Verblyfregbeleidskomitee bepaal.

Rossouw (2023) fokus op die ekonomie van Orania II. Rossouw (2023) beraam die jaarlikse persoonlike en huishoudelike inkomste, verbruiksbesteding en sake-omset binne Orania II teen 2021. Die navorsingsbevindinge van Rossouw (2023) word ook in hierdie navorsing bespreek.

Rossouw (2024) bespreek die gebruik van ora-koepons as ruilmiddel binne Orania II. Die navorsingsbevindings van Rossouw (2024), wat ook in hierdie navorsing bespreek word, toon dat die gebruik van ora-koepons as ’n ruilmiddel, eerder as Suid-Afrikaanse randnote, tot die identiteit van Orania II bydra.

Senekal (2019) rapporteer die resultaat van navorsing oor ’n netwerkontleding van die instellingsnetwerk op Orania II. Soos te wagte is in ’n klein dorpie met ’n beperkte inwonertal, is daar verskeie netwerkverbindings in Orania II. Hoewel die navorsingsbevindings van Senekal (2019) nie in besonderhede in hierdie navorsing bespreek word nie, blyk dit wel dat netwerkverbindings kan verander as Orania II se bevolking verder groei. Dit is ’n belangrike bevinding met die oog op Orania III: Die dorp se aard en identiteit kan verander weens die groei in bevolking en in ekonomiese aktiwiteit.

Senekal (2021) bespreek die ontstaansgeskiedenis van Orania I en Orania II sedert die dorp se eerste vestiging in 1963. Hierdie omvattende artikel oor Orania (I en II, met ’n hooffokus op II) dek ’n wye verskeidenheid literatuur- en mediabronne oor die dorp. Senekal (2021) se belangrike bydrae is onder meer dat hy die gebrek aan akademiese literatuur oorkom deur mediabronne in sy navorsing te gebruik. Senekal (2021) se navorsingsbydrae is van onskatbare waarde vir toekomstige navorsing oor die dorp en word wyd in hierdie navorsing gebruik.

Wirz (2008) se hooffokus is die gebruik van ora-koepons in plaas van Suid-Afrikaanse banknote in Orania II. Wirz (2008:5) dui voorts ook aan dat ontwikkelingsbesluite en die uitvoering daarvan in Orania II beoordeel word op grond van (i) die bevordering van ekologiese volhoubaarheid en (ii) die gemeenskap se strewe na ekonomiese selfstandigheid. Hierdie doelstellings is ook vir die ontwikkeling van Orania III van belang.

Die literatuuroorsig toon dat die fokus tot dusver, met die uitsondering van De Klerk (2014), hoofsaaklik die ontwikkelingsgeskiedenis en huidige stand van Orania II is. De Klerk (2014) fokus wel op die ideaal om Orania II tot ’n stad as Orania III te ontwikkel. Dit is egter nodig om ’n verband te bepaal tussen bestaande navorsing oor Orania (die geskiedenis en ontwikkeling van Orania I en Orania II) en die ideaal om Orania III te ontwikkel. Dit is die oogmerk van hierdie navorsing.

 

4. Aankoop en vestiging van Orania as ’n Afrikaner-enklave (Orania II)

Boshoff (2012) beskryf die aankoop van Orania. Volgens Boshoff het die bestuur van Avstig gereageer op ’n advertensie in Landbouweekblad van Augustus 1990, wat ’n dorp aan die Oranjerivier in die Noord-Kaap per tender te koop aangebied het (2012:384). Die dorp en sekere woonhuise was destyds verwaarloos, maar daar was ander infrastruktuur, byvoorbeeld betonstrate, ’n administratiewe gebou, ’n gemeenskapsaal, ’n kerk, ’n skoolgebou, ’n sportterrein, ’n swembad, ’n rioolstelsel, stormwaterslote en ’n watersuiweringsaanleg (Boshoff 2012:384–5).

Senekal (2021:533) maak ’n verwysing na prof. Carel Boshoff (Carel senior), wat aantoon dat die koopsom van die dorp R1,6 miljoen was (Boshoff 2008). Gegewe die rol van prof. Carel Boshoff (Carel senior) in die aankooponderhandelinge, moet hierdie bedrag as korrek beskou word. Aangepas vir inflasie, is die reële waarde van R1,6 miljoen tans sowat R11,5 miljoen.

Orania II is op 13 April 1991 as Afrikanerdorp heropen, met nuwe intrekkers wat eiendom binne die Vluytjeskraal Aandeleblok Bpk. (VAB) kragtens ’n aandeelblokskema kon aankoop. Dit is steeds die praktyk in Orania II. Eienaars kry nie die titelakte van eiendomme wat hulle aankoop nie, maar kry ’n belang in ’n aandeelblokskema.

Na 1991 is Grootgewaagd se naam na Kleingeluk verander. Dit is onbekend in watter jaar dit gebeur het. Grootgewaagd sou egter as ’n naam gepas wees vir Avstig se Orania II-inisiatief. Avstig het ’n groot waagstuk onderneem met die aankoop van die dorp ter vestiging van ’n Afrikaner-enklave. Na April 1991 was Grootgewaagd onder die nuwe inwoners bekend as “die kleindorp” of “Kleindorp”. Daar was ’n negatiewe konnotasie aan die vorige naam omdat dit voorheen ’n dorpsgebied vir bruin inwoners was en mense het dit as neerbuigend ervaar. Daar is gevolglik ’n kompetisie uitgeskryf vir die kies van ’n nuwe naam. Na afloop van die kompetisie is Grootgewaagd herdoop na Kleingeluk na aanleiding van ’n voorstel deur me. Leonie Buys (Boshoff 2020:347).

Boshoff (2012:390) meld dat daar “270 restoureerbare woonhuise” op Orania I was. Huise in Orania-Oos is in 1991 verkoop vir tussen R30 000 en R48 000, afhangend van die toestand (Senekal 2021:534). In Kleingeluk (voorheen Grootgewaagd) is huise vir R10 000 verkoop (Senekal 2021:534). Om hierdie pryse vir inflasie tot huidige waardes aan te pas, moet dit met sowat 7,2 vermenigvuldig word.

’n Unieke aspek van Orania II is dat al die inwoners Afrikaanssprekend is, wat versoenbaar is met die aanvanklike oogmerke van Avstig, naamlik die vestiging van ’n selfstandige gebied vir Afrikaners. Kotzé en Senekal (2018) verklaar dat “[...] Orania does not exclude anyone based on race, but in reality, the Afrikaner – as a descendant of European settlers since 1652 – is a white community and no black people have settled in Orania”.

Alle besigheidsaktiwiteite, godsdienstige aktiwiteite, onderwys en sosiale interaksie geskied uitsluitlik in Afrikaans. Orania II word dus as ’n Afrikaner- kulturele enklave beskryf. Wirz (2008:i) beskryf die Orania II as ’n “[s]elfstandige Afrikaner Gemeenskap in die Noord Kaap [sic]”.

Daar is internasionaal talle voorbeelde van gebiede binne ’n eenheidstaat wat hul eie belange nastreef met die oog op onafhanklikheid. Bekende voorbeelde is die provinsies Montana, Vidin en Vratsa in Bulgarye (sien byvoorbeeld Daily Sabah 2018), Vlaandere in België (sien byvoorbeeld Charlemagne 2010), Transsilvanië, Banat en Székely Land in Roemenië (sien byvoorbeeld Internet Archive: The Wayback Machine 2012), die inwoners van Baskeland, Galicië, Katalonië en Navarra in Spanje (sien byvoorbeeld Newton 2017) en Skotland in die Verenigde Koninkryk (VK) (sien byvoorbeeld The Economist 2018). Sekere van hierdie gebiede was voorheen deel van ander lande of enklaves en het dus ’n historiese beroep op herverdeling of onafhanklikheid.

Orania II is egter in oppervlakte, aantal inwoners en omvang van ekonomiese bedrywighede hoegenaamd nie vergelykbaar met hierdie streke en gebiede nie. Orania is heelwat kleiner in oppervlakte. Voorts omvat die streke en gebiede wat hier gemeld word die grootste gedeelte van ’n homogene bevolkings- of taalgroep. Hierteenoor maak Orania II se bevolking ’n baie klein persentasie van Suid-Afrika se Afrikaanssprekendes uit (Rossouw 2023).

Boshoff (2020:285) vra by wyse van retoriese vraag: “Wanneer het nuwe intrekkers opgehou om pioniers te wees?” Haar antwoord (Boshoff 2020:285) op hierdie vraag is: “Aan die een kant wou Wynand (Boshoff)4 wat in 1993 hier ingetrek het, graag glo dat hy die pioniersfase vrygespring het.” As teenkant stel Boshoff (2020:285) dat mnr. Frans de Klerk (die outeur van De Klerk 2014) van mening is dat die eerste 20 jaar van Orania II in die teken van die pioniersfase staan. Hierdie navorsing argumenteer dat die pioniersfase nou verby is en dat die grondslag vir Orania III gelê is.

Sedert die ontwikkeling van Orania II in 1991 ’n aanvang geneem het, het die naam en bestaan van die dorp deel van die Afrikaanse en Afrikanerleksikon geword. Orania is ’n woord wat beide in die konteks van groeiende Afrikanerselfbeskikking en in die konteks van ’n bestemming gebruik word. Geen beperking bestaan egter op die gebruik van die woord nie. Dit mag risiko’s vir die bestuur en inwoners van Orania II impliseer. Een moontlike risiko is die vervaardiging, bemarking en verkoop van produkte wat niks met Orania II of Orania III te make het nie, maar onder ’n Orania-handelsmerk beskikbaar gestel word. ’n Ander risiko is dat dienste wat geen verwantskap met die dorp het nie onder Orania as ’n handelsmerk beskikbaar gestel word.

 

5. Literatuurverwysings na Orania II se kenmerkende aspekte

Uit die vorige afdelings wat handel met literatuur oor Orania (spesifiek Orania II) kom sekere kenmerkende aspekte van die dorp na vore. Hierdie aspekte en die relevansie, al dan nie, vir Orania III word in hierdie afdeling van die navorsing bespreek.

5.1 Skikking met die nasionale regering

Volgens Senekal (2021:535) het die Munisipale Afbakeningsraad in 1999 aangekondig dat Orania II in een munisipaliteit saam met Hopetown en Strydenburg ingelyf gaan word. Die voorstel was dat die Hopetown Verteenwoordigende Oorgangsraad, die Strydenburg Verteenwoordigende Oorgangsraad en die Orania Verteenwoordigende Oorgangsraad moet saamsmelt in die nuwe Oranje-Karoo Plaaslike Munisipaliteit. Die naam van hierdie munisipaliteit is in 2004 verander na die Thembelihle Plaaslike Munisipaliteit, wat binne die Pixley Ka Seme Distriksmunisipaliteit val.

Die bestuur van Orania II het die roete van onderhandeling probeer volg om hierdie inlywing te voorkom, maar was onsuksesvol (News24 2000a). Gevolglik is ’n aansoek op 16 November 2000 in die Hooggeregshof in Kimberley gebring om Suid-Afrika se munisipale verkiesing op te skort hangende ’n regsgeding oor die status van die dorp (News24 2000b). Die Hooggeregshof in Kimberley het op 4 Desember 2000 toestemming verleen dat Orania II sy onafhanklike status vir plaaslike bestuur op die basis van ’n skikking tussen die dorpsbestuur en die Suid-Afrikaanse regering kan behou (Orania Transitional Representative Council and the Orania Inhabitants Association vs. The President of the Government of the Republic of South Africa and 47 others, Noord-Kaapse Hooggeregshof, 1148/2000).

Kragtens hierdie skikking is die volgende ooreengekom:

(i) Dat die aansoek sine die uitgestel word.
(ii) Hangende die beregting en finale afhandeling van hierdie aansoek:

a. behou eerste applikant alle regte wat hy tans het of mag hê;
b. bly eerste applikant voortbestaan as ’n entiteit vir onderhandeling en litigasie soos onder meer voorsien in Artikel 38 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet No 108 van 1996;
c. die Plaaslike Regering: Munisipale Strukturewet 1998 (Wet No. 117 van 1998) (Republiek van Suid-Afrika 1998) soos gewysig word ten volle uitgevoer en toegepas.

(iii) Dat die koste van hierdie aansoek oorstaan vir latere beregting.

Orania II se huidige status is ’n oorlegsone binne die betrokke munisipaliteite. Kragtens hierdie status neem Orania II self verantwoordelikheid vir dienslewering en fiskale pligte. Die dorpsraad van Orania II liasseer jaarliks slegs die dorp se eie grondgebruiksaansoeke vir kennisname by die Pixley Ka Seme Distriksmunisipaliteit. Op munisipale vlak beteken dit dat Orania II steeds binne die grense van die Thembelihle Plaaslike Munisipaliteit val, maar geen dienste van die munisipaliteit kry nie en geen betalings aan die munisipaliteit maak nie.

Die behoud van hierdie status quo is van kardinale belang vir die onafhanklike ontwikkeling van Orania II en Orania III se strewe na groeiende selfbeskikking. Sonder hierdie ooreenkoms en die instandhouding daarvan loop Orania III die gevaar van assimilasie sonder ’n eie identiteit in die Thembelihle Plaaslike Munisipaliteit. Dit sal die aard en karakter van die dorp op so ’n wyse verander dat die ideale vir Orania III beswaarlik verwesentlik kan word.

5.2 Selfwerksaamheid

Volgens Wirz (2008:3) is Orania nie ’n plek waar apartheid beoefen word nie, maar waar Afrikaners hul eie werk verrig. Dit staan op Orania II bekend as selfwerksaamheid. Kragtens hierdie beleid word die gebruik van Afrikanerarbeid vir alle tydelike en permanente werk as ’n ononderhandelbare voorvereiste tot groeiende Afrikanerselfbeskikking beskou.

Boshoff (2020) is krities oor die gehalte van werkers wat aanvanklik op Orania II gewoon en gevolglik binne die konteks van selfwerksaamheid op die dorp gewerk het. Na haar aankoms in Orania II in 1991 was sy haastig om haar huis op te knap en te herstel, maar die bouspan was van wisselvallige gehalte en betroubaarheid (Boshoff 2020:91). Boshoff (2020:91) was onder meer “[...] verstom aan al die stories wat hulle vertel het, die taal, die gerook, wat ek teen wil en dank moes aanhoor of aanskou”. Volgens Boshoff (2020:91–2) het dit niks “[...] met armoede te doen gehad nie [...]. [H]ierdie soort Afrikaners wat ek in Orania rondom my huis leer ken het, was nie deel van my agtergrond nie. Party het selfs gespog met hoeveel keer hulle al in die tronk was.”

Selfwerksaamheid vorm ’n integrale deel van Orania II se Afrikanerbemagtigingsprojek. Indiensneming van die inwoners van Orania II kry dus voorkeur. Omdat sekere vaardighede egter nie op die dorp beskikbaar is nie, word ’n uitsondering met tydelike werkspermitte vir skaars vaardighede toegelaat, soos in ’n ander afdeling bespreek word.

Boshoff (2020) se beoordeling van die gehalte van werkers is spesifiek op 1991 van toepassing. Hierdie opmerking, wat meer as 30 jaar terugdateer, kan nie veralgemeen word as ’n beskrywing van die gehalte van werkers wat tans kragtens die beleid van selfwerksaamheid op Orania II in diens is nie. Soos met enige werkspan die geval is, sal die gehalte van werkers verskil. Selfwerksaamheid (weliswaar met uitsonderings by wyse van werkspermitte) moet in Orania III behou word.

5.3 Orania II se bevolkingsamestelling

Orania II se bevolking kom uit verskillende samelewingsvlakke, met ’n deurlopende invloei van mense. Hierdie konstante invloei is ’n voorwaarde vir die vlak van bevolkingsgroei wat Orania II toon. Volgens Senekal (2021:542) het Orania II se bevolking tussen 2001 en 2006 met 0,4% per jaar gegroei om 532 teen 2006 te bereik. Vanaf 2006 tot 2021 het die bevolking tot 2 377 toegeneem, wat ’n saamgestelde groeikoers van 9,2% per jaar oor daardie tydperk beteken. Die Orania Sosio-Ekonomiese Opname (2022) meld dat Orania II ’n “gemiddelde jaarlikse huishoudelike groeikoers van 9,9 persent vir die tydperk tussen 2014 en 2021” ervaar het. Volgens Kotzé en Senekal (2018) is die onlangse bevolkingsgroei van Orania II deels toeskryfbaar aan “[...] the Afrikaner’s increasing sense of marginalisation” in Suid-Afrika. Die verskille in agtergrond van inwoners blyk uit die opmerkings van Boshoff (2020:91–2) wat hier bo aangehaal is.

Die Orania Sosio-Ekonomiese Opname (2022) verskaf omvattende inligting oor verskeie aspekte van die inwoners van Orania II. Vergelykings wat oor tyd heen strek met betrekking tot opeenvolgende opnames sal ’n grondslag verskaf vir die beplanning van die dorp se verdere ekonomiese ontwikkeling. Die gepubliseerde inligting is gebruik vir die beraming van die jaarlikse persoonlike en jaarlikse huishoudelike inkomste van Orania II (Rossouw 2023). Die data wat ontleed word, is in 2022 gepubliseer, maar die onderhoude deur middel waarvan data versamel is, is hoofsaaklik in November en Desember 2021 afgehandel, terwyl ’n klein restant in Januarie 2022 afgehandel is (e-poskorrespondensie met mnr. G Snyman).

Die Orania Sosio-Ekonomiese Opname (2022) stel die totale inwonertal van die dorp teen die einde van 2021 op 2 377 en die totale aantal huishoudings op 649. Hierdie syfers is deur Rossouw (2023) gebruik om ’n bruto persoonlike-inkomsteberaming en ’n bruto huishoudelike-inkomsteberaming vir Orania II teen Desember 2021 te maak.

Die ouderdomsverspreiding van Orania II se 2 377 inwoners word in tabel 1 getoon.

Tabel 1. Ouderdomsverspreiding van Orania II se inwoners, 2021
Bron: Orania Sosio-Ekonomiese Opname 2022

Ouerdomsinterval Aantal Persentasie
Ouer as 65 317 13,4%
20 tot 64 1 318 55,4%
< 1 tot 19 742 31,2%
Totaal 2 377 100%

 

Tabel 1 toon dat die dorp in 2021 teen Desember 1 635 inwoners van 20 jaar en ouer gehad het, wat deel van die werkende arbeidsmag kan wees of inkomste kan verdien, insluitende pensioene en opbrengs op beleggings.

Opnamedata is vir 572 van die 649 huishoudings in Orania II voltooi, met ander woorde sowat 88% van die totaal. Uit die onverwerkte data blyk dit dat geen data oor persoonlike inkomste vir 134 van die huishoudings wat deelgeneem het, ingesamel is nie. Inkomstedata is dus vir 438 huishoudings beskikbaar (67,5% van die totale aantal huishoudings).

5.4 Orania II se vakansiedae

Orania II het sy eie kalender vir openbare vakansiedae, hoewel sommige godsdienstige en ander vakansiedae met die res van Suid-Afrika se vakansiekalender ooreenstem (Boshoff 2020:192–201). Boshoff (2020:191) verduidelik dat Orania II “[...] van die begin af gekies het om ons Afrikaneridentiteit uit te leef deur openbare vakansiedae wat vir die Afrikanervolk belangrik is, te onderhou”. Nuwejaarsdag (1 Januarie), Paasnaweek (na gelang van die stand van die maan), Kersdag (25 Desember) en Gesinsdag (26 Desember) word in Orania II as openbare vakansiedae gevier, soos ook in Suid-Afrika die geval is. Voorts is 16 Desember ook ’n openbare vakansiedag in Orania II soos in Suid-Afrika, maar staan dit as Geloftedag bekend, en nie as Versoeningsdag soos in die res van Suid-Afrika nie. Orania II se unieke vakansiedae is Majubadag (en Vryheidsdag) (27 Februarie), Stigtingsdag (6 April), Bittereinderdag (31 Mei), Taaldag (14 Augustus), Heldedag (10 Oktober) en Hemelvaartdag, waarvan die datum wissel na gelang van die datum van Paasnaweek (Boshoff 2020:191–201).

’n Ander belangrike verskil is dat die opvolgende Maandag in Suid-Afrika ’n openbare vakansiedag is as die dag wat herdenk word op ’n Sondag val. Hierdie praktyk geld nie vir Orania se openbare vakansiedae wat op ’n Sondag val nie.

5.5 Volksfeeste in Orania II

Orania II het ’n aantal volksfeeste, waarvan sommige verband hou met die struktuur van openbare vakansiedae. Jaarliks op 27 Februarie vier Oraniërs die Slag van Majuba binne Orania II en by die Majubakoppie, waar die magte van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) in 1881 ’n oorwinning oor die Britse weermag tydens die Eerste Vryheidsoorlog behaal het.

Kdr. Jan van Riebeeck het op 6 April 1652 aan wal gestap met die oog op die vestiging van ’n verversingspos in die Kaap vir skepe op die seereis tussen Europa en die Ooste. Orania II herdenk hierdie geleentheid en vier daarmee saam die vestiging van Orania II op 13 April 1991. Hemelvaart word jaarliks 40 dae na Paasnaweek in Orania II as godsdienstige vakansiedag met kerkdienste herdenk.

Bittereinderdag op 31 Mei herdenk die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902, wat die Tweede Vryheidsoorlog tussen die ZAR en die Oranje Vrystaat teen die VK tot ’n einde gebring het. As deel van die herdenking word die Doornbult-konsentrasiekampterrein (ook bekend as die Oranjerivier-konsentrasiekampterrein) jaarliks besoek. Dit is sowat 30 kilometer vanaf Orania II in die rigting van Hopetown.

Taaldag word jaarliks op 14 Augustus herdenk, wat die datum is waarop die Genootskap van Regte Afrikaners in 1875 in die Paarl gestig is. Taaldag word herdenk by wyse van ’n weeklange Taalfees wat deur die Orania Kunsteraad georganiseer word.

’n Karnavalweek met ’n sentrale tema word jaarliks op Orania II aangebied. Die fees is vroeër jaarliks in Maart of April aangebied, maar word tans jaarliks teen die einde van September aangebied. Die tema was vanaf 2000 tot 2010 vaardighede in Orania II, terwyl die tema daarna jaarliks verskil. In 2021 was die tema “Trek na vryheid”, terwyl dit in 2022 “Gryp na die toekoms” was. Die tema vir 2023 was “Afrikaners is plesierig”. Tydens karnavalweek word onder meer ’n dansfees, ’n karnavaloptog, ’n nagdraf, ’n osbraai, paneelbesprekings, ’n sterkmankompetisie, toutrek en verskeie konserte aangebied.

5.6 Ora-koepons (Φ)

Rossouw (2024) beskryf die ontstaan en gebruik van ora-koepons, wat in Orania II in omloop is. Orania II se inwoners verkies om bedrae in ora te noem, maar dieselfde praktyk is nie in hierdie navorsing gebruik nie, behalwe waar anders aangedui.

Die ora word deur die Orania Sakekamer gedruk en deur die OSK Koöperatiewe Bank in omloop geplaas. Dit sirkuleer as wettige “betaalmiddel” in Orania II vir gebruik in kontanttransaksies. Rossouw (2024:222) toon egter aan dat dit kragtens die Wet op die Suid-Afrikaanse Reserwebank 90 van 1989 (soos gewysig) nie ’n “geldeenheid” genoem mag word nie. Die Wet bepaal in Artikel 14(1) dat “[d]ie Bank die alleenreg [besit] om in die Republiek banknote en munte uit te reik of te laat uitreik”. Die ora staan gevolglik as ’n “koepon” of “koopbewys” (Wirz 2008:8) of “ruilmiddel” (Orania Sakekamer s.j.) bekend.

Ora-koepons word op papier gedruk en met ’n vervaldatum uitgereik (Joubert e.a. 2022:824). Koepons bly normaalweg drie jaar in omloop. Rand dien as onderpand vir die oras in omloop (Rossouw 2024:228). Die gebruik van papier vir die koepons en ’n vervaldatum is belangrike verskille van Suid-Afrikaanse rand. Banknote soos die rand word op ’n katoen-en-linne-substraatbasis (“cotton-linen substrate”) gedruk. Voorts het randnote geen vervaldatum nie. Die gebruik van ’n vervaldatum op die ora-koepons herinner aan die navorsing van Silvio Gesell (1862–1930) (Fisher 1933; Keynes 1951:353), wat in ’n volgende afdeling van hierdie navorsing bespreek word.

Rossouw (2024:235–6) bevestig die voordele van die ora-koepons soos in die literatuur in die vooruitsig gestel is. Die literatuur oorweeg egter geen nadele van die koepons nie, maar Rossouw (2024:235–6) identifiseer sekere nadele van die stelsel. Na onttrekking uit omloop word ora-koepons onder toesig verbrand om vernietiging te verseker. Dit is egter ’n aspek wat heroorweeg moet word weens die besoedelingsimpak van verbranding, wat teenstrydig is met die oogmerk van ekologiese volhoubaarheid. Ora-koepons en dOra (digitale ora; ook geskryf as d’Ora) kan nie buite Orania II gebruik word nie. Ora-koepons is nie masjienleesbaar soos banknote nie en word met die hand getel, wat administrasiekoste verhoog. Voorts is dit ’n risiko dat die naam van die ora en die ontwerpe wat op die koepons gebruik word, nie geregistreer is nie. Omdat die waarde van die ora aan die Suid-Afrikaanse rand gekoppel is, bied die koepons geen verskansing teen inflasie en enige verswakking in die wisselkoers van die rand nie. Hierdie risiko’s kan slegs uitgeskakel word deur die ora se waarde aan ’n stabiele buitelandse geldeenheid of ’n ander basis te koppel, soos in ’n ander afdeling bespreek word. Kragtens Suid-Afrikaanse valutabeheerregulasies kan die waarde van die ora egter nie aan buitelandse valuta gekoppel word nie.

Kort ná die uitreiking van die huidige H-reeks-ora-koepons in April 2023 was dit reeds duidelik dat ’n swakker kwaliteit papier as tevore gebruik is (Rossouw 2024:231). Dit is problematies dat die koepons maklik in normale hantering skeur. Enersyds kan dit tot weerstand teen die gebruik van die ora-koepons onder Oraniërs lei. Andersyds kan dit die Sakekamer noodsaak om die H-reeks-koepons gouer uit omloop te onttrek deur die I-reeks vroeër as 2026 bekend te stel.

Weens koste-oorwegings word geen ora-munte uitgereik nie. Suid-Afrikaanse munte word in Orania II gebruik. In 2004 is daar wel eenmalig 25 goue en 100 silwer ora-gedenkpennings aangemunt en uitgereik.

Ten spyte van die wetlike beperkings van die Wet op die Suid-Afrikaanse Reserwebank, voldoen die ora de facto aan die meeste van die voorskrifte vir ’n geldeenheid. Van der Merwe, Mollentze, Leshoro, Rossouw en Vermeulen (2014:7–9) stel drie voorskrifte vir ’n geldeenheid. Eerstens moet dit ’n handelsmiddel of ruilmiddel wees (“medium of exchange”). Ora-koepons voldoen aan hierdie vereiste. Tweedens moet dit ’n rekeneenheid (“unit of account”) wees; pryse moet daarin aangedui word. Die ora word sodanig algemeen in Orania II gebruik. Laastens moet dit ’n waarde-instrument (“store of value”) wees. In die praktyk beteken dit opgaarding (“hoarding”) vir latere gebruik. Hoewel ora-koepons in hierdie geval net tot hul vervaldatum opgegaar kan word, voldoen die koepons grootliks aan die vereistes om as geldeenheid beskou te word.

Die ora dra tot gemeenskapsontwikkeling en -bewussyn by. Die ora en Orania II is onlosmaaklik met mekaar verweef, maar die ora kan nie sonder Orania II en Orania III in die toekoms bestaan nie. Daarteenoor kan Orania sonder die ora bestaan (Rossouw 2024:238).

5.7 dOra (Φ)

Die dOra is in 2021 deur die Orania Sakekamer in omloop geplaas (Rossouw 2024:231–2). Voordat die dOra deur die Sakekamer uitgereik is, het die OSK Koöperatiewe Bank die bekendstelling van ’n e-Ora (kripto-geldeenheid met blokkettingtegnologie) ondersoek. Hierdie inisiatief is egter laat vaar omdat die Suid-Afrikaanse Reserwebank daarop gewys het dat die uitreiking van ’n e-Ora onversoenbaar is met die lisensievoorwaardes van ’n koöperatiewe bank.

Die dOra word gevolglik deur die Orania Sakekamer geadministreer. Op hierdie wyse word daar verseker dat die OSK Koöperatiewe Bank binne die wetlike raamwerk vir koöperatiewe banke funksioneer. Dit is van belang vir die voortbestaan van ora-koepons in omloop, soos in ’n volgende afdeling verduidelik word. Een belangrike verskil tussen die dOra en ora-koepons is dat eersgenoemde geen vervaldatum het nie.

Die dOra kan gebruik word na die installasie van ’n toepassing op ’n gebruiker se selfoon. dOra word op die toepassing gelaai en word sonder enige bankkoste by wyse van direkte elektroniese oordrag aan ander gebruikers van die toepassing as betaling oorgedra (Rossouw 2024:232).

5.8 Persoonlike en huishoudelike inkomste in Orania II

Rossouw (2023) se navorsing handel oor persoonlike en huishoudelike inkomste in Orania II in 2021. Rossouw (2023) het vir hierdie doeleindes die sosio-ekonomiese opname gebruik wat in Desember 2021 en vroeg in 2022 voltooi is en data vir 2021 rapporteer.

Gebaseer op ’n ontleding van die opnamedata het Rossouw (2023) die totale bruto persoonlike jaarlikse inkomste van Orania II se inwoners in 2021 op sowat R300 miljoen beraam. Hierteenoor het Rossouw (2023) die bruto jaarlikse huishoudelike inkomste van huishoudings in Orania II in 2021 op sowat R200 miljoen geraam. Moontlike verduidelikings vir hierdie verskil is foute wat gemaak is toe die data wat verskaf is, aangeteken is en verskillende interpretasies van die vraelyste ten tye van data-opname.

Ten einde die gehalte en aanwending van die data-opname te verbeter, moet die vrae in die opname uitgebrei word. Inligting moet onder meer oor huishoudelike besparing en persoonlike inkomstebelasting ingewin word. Dit sal die geldigheid en aanwending van die beramings verbeter.

Hierdie beramings wat Rossouw (2023) van bruto persoonlike inkomste en bruto jaarlikse huishoudelike inkomste gemaak het, is ’n maatstaf waarteen die groei en verandering van ekonomiese bedrywigheid in Orania III beoordeel kan word. Die voorwaardes is egter dat Orania III (i) met hierdie opname voortgaan, en (ii) inwoners van Orania III steeds bereidwillig is om deel te neem, ten spyte van groei in die dorp se aantal inwoners.

Uit die data-ontleding blyk dat die maandelikse huishoudelike inkomste van meer as 60% van Orania II se inwoners teen 2021 minder as R20 000 per maand was, terwyl sowat 36% van die inwoners se inkomste minder as R8 000 per maand was. Weens selfwerksaamheid kom algemene werkers in Orania II uit die groep met lae inkomste, wat onder meer ongeskoolde werkers insluit (vergelyk Boshoff 2020:91–2 wat hierbo aangehaal is).

Een van die uitdagings vir Orania III is dus die uitbreiding van ’n gevestigde middelklas in terme van inkomste. Hierdie groep sal die vraag na goedere en dienste in die dorp uitbrei en die groter aanbod wat daarop volg, sal tot alle inwoners se voordeel wees.

5.9 Orania II se sake-omgewing

Ten tye van die aankoop van Orania in 1991 was die dorp ontvolk en was daar min sprake van sakebedrywighede. Boshoff (2020:84) meld die bestaan van “Johan se kafeetjie”5 teen 1991. Sy meld ook dat “[...] ’n mnr. Jacobs die winkeltjie bo-op die bult gaan oopmaak [...]” kort nadat sy in 1991 na Orania verhuis het (Boshoff 2020:91), maar vermeld geen datum of ander inligting nie. Die indruk is egter dat ’n winkel wat voorheen bestaan het, weer geopen het.

In een van die herinneringsbriewe skryf me. Elica Joubert (Boshoff 2020:288) dat alles kort na die vestiging van Orania II moeilik was, want “[...] daar was nie eers ’n garage waar jy petrol kon kry nie, ons moet Hopetown toe ry vir pos en groente [...]”.

In ’n ander herinneringsbrief dui mev. Frieda Taljaard aan dat daar teen Mei 1993 ’n motorhawe met brandstofpompe (Orania Motors) op Orania II bestaan het. Sy en haar man, mnr. Lucas Taljaard, het dit daardie jaar aangekoop.

Volgens Boshoff (2020:360–1) was daar 63 besighede teen 2003 in Orania II, wat natuurlik verband hou met groei in die dorp se aantal inwoners. Die literatuur oor die omvang van sake-ondernemings is beperk tot die inligting wat Boshoff (2020) rapporteer en die navorsing van Rossouw (2023). Laasgenoemde dui aan dat 220 sake-ondernemings teen 2021 in Orania II bedrywig was. Teen daardie datum is die jaarlikse omset van sake-ondernemings op sowat R282 miljoen beraam.

5.10 OSK Koöperatiewe Bank

Hoewel die OSK Koöperatiewe Bank ingesluit is in die aantal ondernemings en die omset van die ondernemings wat elders bespreek word, verdien die bank verdere bespreking. Joubert e.a. (2022) kan geraadpleeg word vir ’n omvattende bespreking van hierdie bank. Die OSK Koöperatiewe Bank is as ’n koöperatiewe bank kragtens die Co-operative Banks Act 40 of 2007, soos gewysig, geregistreer (Republiek van Suid-Afrika 2007).

Die OSK Koöperatiewe Bank het uit die dorp ontstaan en is diep in Orania II gewortel. Die bank bied finansiële dienste aan die plaaslike gemeenskap en dra by uit tot die ontwikkeling van die dorp. Dit blyk onder meer uit die lenings en voorskotte wat die bank maak.

Volgens Joubert e.a. (2022:825) was daar in 2019 ongeveer 550 geregistreerde eiendomme in Orania II. Die OSK Koöperatiewe Bank het eiendomslenings op 306 van hierdie eiendomme (dus sowat 55%) gehou. Sonder hierdie lenings sou die eiendomsmark in Orania II beswaarlik die groei kon toon wat behaal is. Hierdie omvang van eiendomslenings by die OSK Koöperatiewe Bank kan toegeskryf word aan die feit dat die bank bereid is om eiendom wat kragtens ’n aandeleblokskema besit word, as onderpand vir lenings te neem.

Joubert e.a. (2022:827) se gevolgtrekking is dat die OSK Koöperatiewe Bank “[...] ’n beduidende positiewe invloed op Orania se ekonomiese ontwikkeling het”. Die OSK Koöperatiewe Bank speel ’n kernrol in die volgehoue ontwikkeling van Orania II en sal ’n soortgelyke rol in Orania III moet speel. Die unieke voordeel wat die bank vir Orania II inhou, is die toestaan van behuisingslenings op eiendom wat kragtens ’n aandeleblokskema aangekoop word.

5.11 Rol van die Solidariteit Beweging in Orania II

Orania II se strewe na selfstandigheid en outonomie “[...] vorm deel van die Solidariteit Beweging se federale plan wat ten doel het om Afrikaners se identiteit te koester, gemeenskapstrukture vir Afrikaners op te rig en ’n ruimte daar te stel waarin Afrikaners in vryheid kan woon en werk” (Orania Ontwikkelingsmaatskappy s.j.). Die Solidariteit Beweging het in 2020 ’n kantoor op Orania II geopen “[...] wat die Beweging in staat gestel het om as medeontwikkelaar by ’n verskeidenheid aktiwiteite in Orania betrokke te raak” (Orania Ontwikkelingsmaatskappy s.j.). Die Solidariteit Beweging se hulpverlening, beleggings en projekte in Orania II word deur die Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM) gekoördineer (Orania Ontwikkelingsmaatskappy s.j.).

OOM was met die ondersteuning van die Solidariteit Beweging ten nouste betrokke by die vestiging van Bo-Karoo Opleiding (BKO). BKO verskaf opleiding aan vakleerlinge wat in Orania II maar ook buite die dorp kan werk. BKO maak op hierdie wyse ’n bydrae om Suid-Afrika se tekort aan vaardighede op te los, terwyl inwoners se lewenstandaarde op hierdie wyse ook verbeter word (Orania Ontwikkelingsmaatskappy s.j.). Voorts ondersteun OOM ook “ander openbare ondernemings, soos die verskillende skole, Karoosig-aftreeoord en Helpmekaar maatskaplike dienste” (Orania Ontwikkelingsmaatskappy s.j.).

OOM kan hierdie aksies net met steun van die Solidariteit Beweging uitvoer. Soos uit die ontleding van persoonlike en huishoudelike inkomste en die omset van sake-ondernemings op Orania II blyk, is kapitaal vir ontwikkelingsprojekte skraps. Die kapitaalinspuiting wat Orania II van die Solidariteit Beweging kry, is dus van groot belang vir die dorp se voortgesette ontwikkeling. Orania III sal op dieselfde wyse op ondersteuning aangewese wees van die Solidariteit Beweging as wat tans met Orania II die geval is.

5.12 Volhoubare benutting

Soos vroeër in hierdie navorsing aangedui is, word ontwikkelingsbesluite in Orania II beoordeel op grond van twee kriteria: (i) die bevordering van ekologiese volhoubaarheid, en (ii) die gemeenskap se strewe na ekonomiese selfstandigheid (Wirz 2008:5). Hierdie doelstellings is ook vir die ontwikkeling van Orania III van belang.

Volgens die Orania Beweging (s.j.a.) behels ekologiese volhoubaarheid “’n ingesteldheid van inwoners om dinge te doen wat nie altyd die makliker keuse is nie, maar wel die beter een wanneer dit by die gebruik van natuurlike hulpbronne kom”.

Ekonomiese selfstandigheid word deur die beleid van selfwerksaamheid ondersteun. Dit is egter moeilik om op grond van ’n literatuurstudie te bepaal of Orania II volledig aan hierdie oogmerke voldoen.

5.13 Eiendomsontwikkeling op Orania II

Soos vroeër aangedui is, was daar 270 restoureerbare woonhuise op Orania I (Boshoff 2012:390), wat oënskynlik huise in die latere Kleingeluk ingesluit het. Soos die bevolking van Orania II egter gegroei het, was dit nodig om behuising en infrastruktuur uit te brei. Die bestuur van Orania III sal moet voortbou op hierdie inisiatief, maar sal ook moet fokus op behuisingsontwikkeling vir nuwe intrekkers in die middelinkomstegroep. Behuisingsontwikkeling gaan gepaard met die uitbreiding van die beskikbare infrastruktuur.

5.14 Ernstige sakemislukkings op Orania II

Op Orania II was daar ’n kwota sakemislukkings. Die les uit hierdie sakemislukkings is dat nuwe sakegeleenthede vir Orania III noukeurig oorweeg moet word ten einde kapitaalvernietiging te voorkom. In ’n dorp soos Orania III waar kapitaal skaars is, kom enige vorm van kapitaalvernietiging met ’n hoë geleentheidskoste: Die kapitaal kon immers vir ander suksesvolle projekte aangewend word, wat tot voordeel van die dorp sou wees.

Boshoff (2012:391 en 392) verduidelik dat ’n beesboerdery in Orania II gevestig is om melk aan die dorp te voorsien. Melkproduksie was aanvanklik uiters arbeidsintensief, maar kapitaaltoerusting is later bekom om die las te verlig en die onderneming het tot Orania Suiwelonderneming Bpk. ontwikkel (Senekal 2021:538). Die kapitaalkoste het R9 miljoen beloop (sowat R30 miljoen in huidige reële geldwaarde), waarvan 50% as leningskapitaal bekom is. Nadat rentekoerse gestyg het, was die onderneming nie langer lewensvatbaar nie (Senekal 2021:536) en die boerdery is op 1 Februarie 2011 beëindig (Boshoff 2012:392). Boshoff (2012:415) meld dat die likwidasie van die suiwelprojek met kapitaalverlies gepaard gegaan het.

Boshoff (2012:411 tot 415) beskryf ook ’n inisiatief om ’n diamantduikonderneming teen die Weskus van Suid-Afrika op die been te bring ten einde kapitaal vir Orania II te bekom. Hierdie projek het ook skeefgeloop (Boshoff 414–5), maar sonder groot finansiële verliese nadat ’n versekeringseis uitbetaal het.

5.15 Onderlinge spanning in Orania II

Orania II herdenk Stigtingsdag op 6 April, onder meer omdat dit die begin was van die ontwikkeling van ’n verversingspos aan die Kaap in 1652 wat gelei het tot ’n gemeenskap wat vandag as die Afrikaners bekendstaan. Teen 1688 is die verversingspos verder versterk deur die vestiging van die Franse Hugenote, wat weens hul protestantse oortuigings uit Frankryk moes vlug. Die gevolg was die vestiging van ’n sterk protestantse kultuur onder Afrikaners, wat vandag steeds sigbaar is in sosiale interaksie. Hierdie sterk protestantisme het ook in Orania II neerslag gevind, soos blyk uit tweedrag en onderlinge struwelinge tussen inwoners. Struwelinge tussen Afrikaners het tradisioneel neerslag gevind in geloofsbeoefening, maar is ook op ander terreine sigbaar.

5.15.1 Kerkgenootskappe op Orania II

Die verblyfregvoorskrif dat alle inwoners Afrikaans magtig moet wees en alle bedrywighede in Afrikaans plaasvind, impliseer dat alle kerklike bedrywighede ook ’n Afrikaanse karakter het. Voorts bepaal die verblyfregvoorwaardes ook dat Orania II geskoei is op ’n Christelike wêreldbeskouing met tradisionele Christelike norme en waardes, wat impliseer dat daar slegs Christelike kerkgenootskappe op Orania II gevestig is.

Teen die agtergrond van die Afrikaanse protestantse kultuur met verskeie kerkgenootskappe, het Orania II ook verskeie kerkgenootskappe. Die groot aantal kerkgenootskappe in ’n plattelandse gemeenskap staan in die tradisie van protestantisme en kerklike spanning en twis onder Afrikaners, waarvan die besonderhede buite die omvang van hierdie navorsing val. Navorsers soos Loader (1996) of Pont (1991) kan oor hierdie aspek geraadpleeg word.

Boshoff (2012:393) toon aan dat daar aanvanklik Sondae ’n interdenominatiewe erediens in Orania II gehou is. Getrou aan die aard van die Afrikaner was kerkeenheid in Orania II egter onmoontlik en “[d]ie verskillende gereformeerdes het een vir een hul eie gemeentes gestig en die gesamentlike dienste het tot ’n einde gekom” (Boshoff 2020:172). Boshoff (2012:393) verklaar in hierdie verband: “Ek het dikwels gesê die eerste ding wat die Here ons sal moet vergewe, is ons kerklike verdeeldheid.”

5.15.2 Skole op Orania II

Volgens Senekal (2021:534) was die Volkskool Orania II se eerste skool, wat gestig is deur mev. Anna Boshoff, die eggenote van prof. Carel Boshoff en steeds nóú aan die Boshoff-familie verbind is. Hierdie skool is op 3 Junie 1991 geopen op die terrein van die voormalige Orania Laerskool uit die tydperk van Orania I. Die skool is kragtens Artikel 21 van die Maatskappywet 71 van 20086 (Republiek van Suid-Afrika 2008) as Orania Volkskool Eiendoms Beperk (Boshoff 2012:399) gestig. Die Orania Skool vir Christelike Volkseie Onderwys (CVO-skool) is op 19 Januarie 1993 geopen (Senekal 2021:532) en word tans gehuisves op die terrein waar die kampong tydens Orania I se oprigting gebou is.

In ’n herinneringsbrief dui dr. Wynand Boshoff7 aan: “Nog ’n saak waaroor daar baie meningsverskil was, was onderwys” (Boshoff 2020:351). Volgens dr. Wynand Boshoff het die Volkskool en sy onderwysstelsel ’n verdelingspunt geword (Boshoff 2020:352) en bygedra tot die stigting van die CVO-skool.

5.15.3 Ander spanning en struwelinge op Orania II

In dieselfde herinneringsbrief waarna daar hier bo verwys word, toon dr. Wynand Boshoff aan dat daar kort na die vestiging van Orania II reeds in 1992 teenkanting teen sekere praktyke en beheer in die dorp ontwikkel het (Boshoff 2020:350). Die gevolg was onder meer dat die samestelling van die direksie van Orania Bestuursdienste, wat vir die dorpsbestuur verantwoordelik was, hersien is. In hierdie geval was mnr. André van den Berg8 sentraal tot die spanning weens sy rol in die dorpsbestuur. Hy wou ’n lisensiestelsel vir nuwe besighede invoer, wat tot groot teenkanting gelei het. Prof. Carel Boshoff (Carel senior) maak in sy outobiografie onder meer opmerkings oor spanning op Orania II in die dorp se vormingsjare.

In ’n dorp met ’n sterk Afrikanerkultuur moet onderlinge spanning met groot wysheid bestuur word. Die fokus moet die einddoel van groeiende selfbeskikking bly en nie deur nietighede ontspoor word nie.

 

6. Ander kenmerkende aspekte van Orania II en ander literatuur wat op Orania III betrekking het

Die literatuuroorsig verskaf toeligting oor verskeie aspekte van Orania II. Daar is egter ook kenmerke van Orania II wat min aandag in die literatuur oor die dorp geniet, maar bydra tot die unieke karakter van Orania II. Hierdie aspekte word in hierdie afdeling toegelig. Voorts is daar ook aspekte van Orania II wat ooreenstem met praktyke buite Suid-Afrika, wat geen aandag in die literatuur geniet nie. Hierdie aspekte word ook in hierdie afdeling toegelig.

6.1 Aansoek om verblyfreg in Orania II

Die akademiese literatuur oor Orania II fokus nie op die voorwaardes vir verblyfreg in die dorp nie. Dit is ’n belangrike aspek van die aard van Orania II en kan toegepas word onder meer omdat eiendom by wyse van ’n belang in ’n aandeelblokskema verhandel, eerder as by wyse van ’n titelakte soos in die grootste gedeelte van die res van Suid-Afrika die geval is.

In die aansoek om verblyfreg, wat opgeskort of teruggetrek kan word, verduidelik die Orania Beweging (s.j.b.) onder meer dat die doel van die dorp ’n “vestigingspunt vir Afrikanerselfbeskikking” is. Voorts word die dorp “in nederige erkentlikheid teenoor die Drie-Enige God, Alleenbeskikker oor die lotgevalle van volkere en die geskiedenis van die mensdom” (Orania Beweging s.j.b.) ontwikkel. Dit impliseer onder meer dat die gemeenskap van Orania II geskoei is “op ’n Christelike wêreldbeskouing met tradisionele Christelike norme en waardes. Dit is Bybelgefundeerde gesinne wat die onmisbare boustene van ’n gesonde gemeenskap en volk uitmaak”.

In die konteks van verblyfregaansoeke word verklaar dat Orania II ’n doelgedrewe gemeenskap is “[...] wat deurlopend werk na hoër vlakke van selfstandigheid en selfbesluitneming ten einde uiting te gee aan ’n strewe na selfbeskikking [...]” (Orania Dorpsraad 2022:1). Binne hierdie konteks is “[d]ie erkenning en gebruik van Afrikaans as voertaal [...] ononderhandelbaar en ’n voorvereiste vir enige aansoeker om deel van die Oraniagemeenskap te word” (Orania Dorpsraad 2022:1). Voorts is “[s]elfwerksaamheid, as die gebruik van Afrikanerarbeid vir alle tydelike en permanente werk [...] derhalwe ononderhandelbaar” (Orania Dorpsraad 2022:1). Die praktiese implikasie is gevolglik: “Elke aandeelhouer, grondeienaar, werkgewer, verkoper, verhuurder en agent moet hom/haar daarom vergewis dat die persoon oor die toepaslike verblyfregstatus beskik alvorens hy/sy in diens geneem word of verblyf aan hom/haar beskikbaar gestel word” (Orania Dorpsraad 2022:1).

Sonder verblyfreg (wat as ’n voorreg voorbehou word) en die voorgeskrewe aansoekproses, kon Orania II se aard reeds sedert 1991 verander het. Die aard en groei van Orania III sal dus bepaal word deur die mate waarin verblyfreg steeds toegepas kan word vir ’n groeiende bevolking.

6.2 Werkspermitte vir werksaamhede in Orania II

Die Orania Beweging (s.j.b.) verklaar: “Selfwerksaamheid, as die gebruik van Afrikanerarbeid vir alle tydelike en permanente werk, is die ononderhandelbare voorvereiste tot groeiende Afrikanerselfbeskikking.” Dit beteken dat slegs inwoners van Orania II in die dorp kan werk. Omdat alle kundigheid nie in Orania II beskikbaar is nie, kan werkers van buite die dorp vir werkspermitte vir ’n beperkte tydperk – langer as 2 dae maar korter as 120 dae – aansoek doen.

Selfwerksaamheid bepaal die aard van Orania II. Sonder die deurlopende toepassing van hierdie riglyn sal die aard van Orania III dramaties van Orania II verskil. Die aard en groei van Orania III sal dus ook bepaal word deur die mate waarin selfwerksaamheid steeds toegepas kan word vir ’n groeiende bevolking.

6.3 Orania II se dissiplinêre kode en reëls9

Orania II het ’n dissiplinêre kode en verskeie reëls waaraan inwoners wat verblyfreg geniet, moet voldoen. Die dissiplinêre kode en reëls gee die indruk van ’n samelopende verhouding van twee aspekte: sake wat die struktuur van Orania II as ’n Afrikaner-enklave ondersteun, en plaaslike verordeninge, soos bepaal deur Artikel 156(2) van die Grondwet van Suid-Afrika (Republiek van Suid-Afrika 1996).

Die vernaamste oogmerk van die dissiplinêre kode en reëls is om orde in Orania II te handhaaf. Dit dek onder meer aspekte soos die beheer van lawaai en musiek; boetes by die oortreding van reëls; diere in die dorp; drankverkope en -verbruik; netheid en probleemerwe in die dorp; padreëls; toepassing van reëls; en veiligheid in die dorp. Hierdie reëls is van belang vir die orde in die dorp en moet na Orania III oorgedra word. Hierdie reëls is egter nie van kritiese belang vir die voortbestaan van Orania III as Afrikaner-enklave met selfbeskikking as uiteindelike oogmerk nie.

Die reëls wat handel met die interne oplossing van dispute en dissiplinêre aangeleenthede bepaal onder meer: “Die gemeenskap van Orania is daartoe verbind om alle geskille en dissiplinêre aangeleenthede so vêr as moontlik intern en binne eie geledere op te los en te hanteer” (Orania s.j.).

’n Verdere stel reëls bepaal onder meer: “Die Uitvoerende Hoof en bestuurspersoneel van die Orania Dorpsraad vorm die Uitvoerende Orgaan in opdrag en onder die beheer van die Direksie [...]” (Orania s.j.) van die Orania Aandeleblok (RF) (Edms.) Bpk. Voorts word daar bepaal (Orania s.j.):

Die Direksie van OAB as die verkose verteenwoordigers van die aandeelhouers en lede van OAB sal die Reëlskeppende of Wetgewende Orgaan wees, met dien verstande dat enige behoorlik gekonstitueerde vergadering van die aandeelhouers en lede van OAB die bevoegdheid sal hê om soortgelyke funksies as die Direksie te verrig asook enige handelinge van die Direksie te bestuur of enige besluite of optrede van die Direksie kan veto of tersyde stel.

Hierdie reël is van besondere belang. Hoewel die reëls die indruk mag gee van ’n hoë mate van sentrale beheer en sentrale beplanning, soos deur H.F. Verwoerd in die vooruitsig gestel is (Boshoff 2022:110), is dit uit die hierdie laaste beskrywing duidelik dat die finale gesag in Orania II in die inwoners van die dorp gesetel is. Hierdie benadering moet in Orania III behoue bly om gesentraliseerde beheer te vermy.

In die beoordeling van die dissiplinêre kode en die dorpsreëls is dit egter noodsaaklik om te onderskei tussen noodsaaklike ordereëls aan die een kant en aan die ander kant reëls bloot ter wille van gesagvertoon of om gedrag op ’n sentrale basis te bestuur. In die outobiografie van prof. Jan Lombard (Lombard 2019) is ’n deurlopende tema dat elke voorkeur nie ’n beginsel is nie. Volgens Lombard (2019) moet min beginsels geld, waarby daar te alle tye gehou word. Die gesonde beginsel dat die reëls onderworpe is aan die wil van die inwoners van Orania II en Orania III in die toekoms, moet dus deurlopend toegepas word. Die indruk uit hierdie navorsing is dat Lombard met só ’n benadering sou saamstem, want dit is billik teenoor al die inwoners van Orania II.

6.4 Lesse uit ander voorbeelde van plaaslike geldeenhede

Geen literatuur oor Orania maak melding van die internasionale voorkoms van kontantstelsels soortgelyk aan ora-koepons nie. Internasionale voorbeelde kom egter wel voor, waarvan enkeles bespreek word om moontlike implikasies vir die voortgesette gebruik van ora-koepons en die dOra vir Orania III te identifiseer. Gonçalves (2021) verwys hierna as “plaaslike geldeenhede” of “gemeenskapsgeldeenhede” (“local currencies”).

Chasin, Schmolke en Becker (2020:4122) gee meer inligting oor die internasionale voorkoms en gebruik van plaaslike geldeenhede wat tans bestaan en in omloop is, of uit omloop verdwyn het. Tans is meer as tien plaaslike geldeenhede wêreldwyd in omloop (Chasin e.a. 2020:4122).

Gesell, na wie daar voorheen in hierdie navorsing verwys is, was die vader van moderne denke oor plaaslike geldeenhede. Gesell se fokus was op onopgaarbare (“non-hoardable”) geldeenhede, met ander woorde banknote wat nie onbeperk uit omloop onttrek kan word as ’n vorm van besparing nie. Gesell was dus ten gunste van die besteding van banknote (Keynes 1951). Vir Gesell was die oplossing banknote met ’n vervaldatum.

Fisher (1933) noem banknote waarvan die waarde periodiek herbevestig moet word “stamped scrip”. “Stamped scrip” in hierdie konteks vertaal baie moeilik. Gesell was ten gunste van ’n stelsel waarkragtens die publiek spesiale seëls by die poskantoor moes koop om die waarde van banknote te herbevestig, wat tot die gebruik van die terminologie “stamped scrip” gelei het.

Volgens The Economist (2020) het Schwanenkirchen, ’n myndorp in Bavaria, die wara as ’n plaaslike geldeenheid uitgereik met die oogmerk om likiditeit en die omloopsnelheid van geld aan te moedig. Wörgl in Oostenryk het ’n soortgelyke model gevolg (Fisher 1933). Die waarde van die koepons wat in albei hierdie gevalle uitgereik is, moes periodiek teen ’n klein koste herbevestig word.

Die sirkulasie van beide hierdie geldeenhede is uiteindelik deur die owerhede in die onderskeie lande verbied, omdat (i) die uitreiking van ’n privaat geldeenheid ’n oortreding van toepaslike wetgewing was; en (ii) omdat die owerhede in die betrokke lande gevrees het dat ’n ooruitreiking van die geldeenhede tot inflasionêre druk kan lei.

Die ora slaag daarin om hierdie twee risiko’s te vermy. Die ora word teen die rand uitgereik, wat ooruitreiking aan bande lê. Voorts staan die ora as ’n koepon bekend en nie as ’n geldeenheid nie.

Hoewel Chasin e.a. (2020:4122) meer as tien gemeenskapsgeldeenhede identifiseer, is slegs enkeles vir die ora van belang. BerkShares is in September 2006 in die Berkshires-gebied van Massachusetts in die Verenigde State van Amerika (VSA) vrygestel (Witt 2023). Die BerkShare is teen ’n 1:1-koers aan die VS-dollar gekoppel, hoewel daar ’n diskonto van 5% toegestaan word wanneer 100 BerkShares aangekoop word (Witt 2023). Ten einde die BerkShare teen die volatiliteit en dalende waarde van die VS-dollar te beskerm, word ondersoek ingestel na die moontlikheid om die geldeenheid se waarde aan ’n mandjie plaaslike goedere te koppel (Witt 2023). Laasgenoemde benadering mag ’n oplossing vir ’n daling in die waarde van die ora-koepons en dOra, gekoppel aan die Suid-Afrikaanse rand, bied as dit suksesvol in die Berkshires-gebied toegepas kan word.

Die Bristol-pond is op 19 September 2012 (Gonçalves 2021) in Bristol in die VK van stapel gestuur, met die simbool £B. Dit is deur Bristol Pay (soortgelyk aan die dOra) vervang (Bristol Pound: Leaving a legacy s.j.), maar was nie lewensvatbaar nie. Volgens Wills (2021) het Bristol Pay misluk aangesien “[...] the growth of cashless payments and cryptocurrencies would eventually bring about its decline, with the challenges of the pandemic dealing the final, fatal blow”. As die lewensvatbaarheid van die dOra in die gedrang kom, kan dit dus nadelige gevolge vir ora-koepons inhou.

Findhorn Ecovillage in Skotland se plaaslike geldeenheid staan bekend as die eko. Die eko-note het ’n vervaldatum, maar kan nie deur individue vir nuwe eko-note of vir Britse pondnote gewissel word nie. Die eko en ora-koepons toon dus ooreenkomste, maar die ora-koepons is nietemin meer aantreklik vir gebruikers omdat enige persoon of sake-onderneming dit vir rand kan omruil. Hierdie ooglopende voordeel van ora-koepons moet dus behou word.

In Salt Springeiland suidwes van Vancouver in die Straat van Georgië is die Salt Spring-dollar ($$D) sedert 2001 in omloop (McBurnie 2012). Die $$D word kragtens wetgewing as ’n geskenkbewys geklassifiseer en word uitgereik deur die Salt Springeiland se Monetêre Stigting (Salt Spring Island Monetary Foundation, of SSIMF). Die geskenkbewyse word op ’n grondslag van 1:1 teen die Kanadese dollar uitgereik. Die SSIMF het aanvanklik die geskenkbewyse met ’n vervaldatum uitgereik. Sedert wetgewing betreffende vervaldatums op geskenkbewyse verander is, is die $$D-note egter onbepaald in omloop. Die ondervinding van Salt Springeiland toon dat uitreikers van plaaslike “geldeenhede”/koepons/geskenkbewyse met wetlike veranderings tred moet hou.

’n Ontleding van plaaslike geldeenhede toon dat die gemeenskap se steun van deurslaggewende belang is vir die voortbestaan van hierdie geldeenhede. Dit bevestig die gevolgtrekking dat Orania II sonder die ora kan bestaan, maar dat die ora nie sonder Orania II (en Orania III in die toekoms) kan bestaan nie. Voorts moet alle wetlike verpligtinge nagekom word.

6.5 Radio Orania en ’n plaaslike koerant

Radio Orania is Orania II se gemeenskapsradiostasie. Die stasie dek Orania II, maar ontvangs tot sover as Hopetown is moontlik. Die radiostasie is op 12 April 2008 bekendgestel. Die formaat is 40% musiek en 60% geselsprogramme en onderhoude. Die personeel van die radiostasie bestaan uit vrywilligers wat in Orania II woon (Radio Orania s.j.).

Sedert 2024 het Orania II ’n plaaslike koerant, Koerania. Die naam is ’n samevoeging van koerant en Orania. Die koerant word maandeliks gepubliseer.

Radio Orania en Koerania is belangrike skakels en instrumente in plaaslike kommunikasie in Orania II. Soos met die ora, is die radiostasie en die koerant se oorlewing egter afhanklik van die oorlewing van die dorp.

6.6 Strewe na groeiende selfbeskikking vir Orania III

’n Deurlopende tema in hierdie navorsing is die volgehoue strewe na groter onafhanklikheid en groeiende selfbeskikking in Orania II en Orania III. Gegewe hierdie oogmerk, is dit opvallend dat die literatuur wat oorweeg is min aandag aan hierdie aspek van Orania II gee.

Daar is voorbeelde van lande wat onafhanklikheid deur sesessie verkry het. Dit is waarskynlik die enige opsie vir Orania II of Orania III in die toekoms, maar sekere voorwaardes sal geld om hierdie opsie te laat slaag.

Die verdere vraag is of enige gebied “onafhanklikheid kan koop” van die regering van enige land. Geen voorbeelde hiervan kom voor nie. Die enigste voorbeelde is grondgebied van een land wat deur ’n ander aangekoop is.

Laastens kan onafhanklikheid deur die swaardmag verkry word. Dit lei egter tot bloedvergieting en moet ten alle koste vermy word.

6.6.1 Onafhanklikheid deur sesessie

Onafhanklikheid van state deur sesessie is ’n bekende vorm van onafhanklikheid. Volgens Wood (1981:111) kan sesessie beskryf word as “an instance of political disintegration, wherein political actors in one or more subsystems withdraw their loyalties, expectations, and political activities from a jurisdictional centre and focus them on a centre of their own”. Sesessie beteken dus onafhanklikheid vir ’n groep binne ’n gebied deur skeiding van ’n groter jurisdiksie. Wood (1981:133) stel dit dat “[...] no ‘successful’ secession is complete until it has become institutionalized in a new government, legitimate at home and recognized abroad”.

Binne Suid-Afrika is sesessie vir verskillende gebiede ter sprake, afgesien van Orania II se strewe na selfbeskikking. Die gedagte van ’n onafhanklike Wes-Kaap word soms onder die vaandel van CapeXit geopper. (CapeXit s.j.). Voorts is die oogmerk van die Dabalorivhuwa10 Patriotic Front (DPF) in die noorde van Suid-Afrika ’n onafhanklike gebied vir die Vhavenda- (uitgespreek “Bavenda”) bevolking van Suid-Afrika, met grense wat grootliks ooreenstem met die vorige Republiek van Venda.

Volgens Kreuter (2010:369) word die reg op selfbeskikking en sesessie deur die internasionale reg erken, maar “[w]hen secession occurs against the wishes of the parent state, it is rarely acknowledged”. Die standpunte van Kreuter (2010:371) en Wood (1981:111) oor internasionale erkenning is van groot belang in die konteks van Suid-Afrika. In die 1970’s en 1980’s het die TBVC-lande (Transkei, Bophuthatswana, Venda en Ciskei) by wyse van sesessie “onafhanklikheid” van Suid-Afrika verkry. Die Suid-Afrikaanse regering het hierdie onafhanklikheid erken, terwyl die TBVC-lande ook mekaar se onafhanklikheid erken het, maar omdat hierdie “onafhanklikheid” egter nooit deur enige internasionale liggaam soos die Verenigde Nasies (VN) of deur enige ander land erken is nie, was dit nie volhoubaar nie. Gevolglik is hierdie lande weer by Suid-Afrika “ingelyf”.

Die een belangrike verskil is egter dat die Suid-Afrikaanse regering voor 1994 ’n gebrek aan internasionale legitimiteit gehad het. Hierteenoor word Suid-Afrika se huidige regering internasionaal as legitiem beskou, wat ander “waarde” gee aan regeringsbesluite. Internasionale steun vir plaaslike regeringsbesluite soos selfbeskikking aan Orania II of Orania III sal dus makliker volg.

6.6.2 Aankoop van grondgebied

Histories is daar voorbeelde van grondgebiede wat deur een onafhanklike land van ’n ander aangekoop is. Die VSA het in 1803 kragtens die Louisiana-aankoop (Louisiana Purchase) 214 miljoen hektaar grondgebied in Noord-Amerika vir $15 miljoen van Frankryk gekoop (Office of the Historian s.j.a.). Aangepas vir inflasie is die huidige reële waarde van VS$15 miljoen vandag sowat VS$408 miljoen.

’n Ander bekende voorbeeld is Alaska, wat die VSA in 1867 vir VS$7,2 miljoen van die Russiese Ryk aangekoop het (Office of the Historian s.j.b.). Die totale oppervlakte van Alaska wat aangekoop is, was 151 miljoen hektaar. Die reële waarde van die koopprys beloop tans sowat VS$150 miljoen.

Hoewel hierdie twee aankope histories die bekendste is, is daar nog verskeie ander voorbeelde. So het die VSA byvoorbeeld ook Arizona, Florida, Kalifornië, Nevada, Nieu-Meksiko en Utah aangekoop, terwyl ander lande, byvoorbeeld Brasilië, Saoedi-Arabië en die VK, ook grondgebied van ander lande aangekoop het.

Daar is egter geen voorbeeld van ’n groep inwoners wat hul eie onafhanklikheid van die regering van hul land “gekoop” het nie. Hoewel die inwoners en bestuur van Orania II dus die moontlikheid kan ondersoek om vir die Suid-Afrikaanse regering ’n aanbod op die voorwaarde van soewereiniteit te maak, is daar nie ’n voorbeeld wat gevolg kan word nie. Voorts is die uitdaging van só ’n benadering die prys waarop ooreengekom moet word en internasionale erkenning van so ’n transaksie. Uit die ekonomiese ontleding van Rossouw (2023) blyk ook dat daar tans onvoldoende kapitaal vir ’n “kooptransaksie” van hierdie aard in Orania II is. Fondse van buite die dorp sal vir só ’n transaksie verkry moet word.

6.6.3 Swaardmag

Verskeie lande het hul onafhanklikheid na ’n oorlog of reeks oorloë gekry, en in sommige gevalle onafhanklikheid verloor. Dit is egter nie ’n opsie vir Orania II of Orania III nie, want (i) die dorp het nie ’n weermag nie; en (ii) enige poging om met geweld onafhanklikheid van Suid-Afrika te kry, kan op ’n burgeroorlog uitloop.

6.6.4 Opsies vir groeiende selfbeskikking vir Orania III

Hierdie ontleding van die opsies vir Orania III se groeiende selfbeskikking toon dat onderhandeling vir sesessie met die Suid-Afrikaanse regering die enigste beskikbare alternatief is. Voorts moet enige sodanige skikking wat binnelands bereik word, uiteindelik internasionale erkenning geniet.

6.7 Bywerking van Orania II se inkomstevlakke en sake-omset vir 2023-waardes

Rossouw (2023) het Orania se inkomstevlakke en sake-omset teen die einde van 2021 bereken. Sedertdien het die bevolking van die dorp met sowat 10% per jaar vanaf 2 377 tot sowat 2 875 teen die einde van 2023 toegeneem. As die aanname gemaak word dat die inwoners wat bykomend op Orania II gevestig het, dieselfde inkomsteprofiel het as bestaande inwoners teen die einde van 2021, beteken dit dat inkomstevlakke teen die einde van 2023 sowat 21% hoër is. Dieselfde aanname word vir die toename in sake-omset gebruik.

Voorts was Suid-Afrika se inflasiekoers oor dieselfde tydperk sowat 12,5%. As pryse en inkomste in Orania II teen dieselfde tempo toegeneem het, is die implikasie dat inkomstes en sake-omset op die dorp teen Desember 2023 weens inflasie sowat 12,5% groter moet wees as teen Desember 2021.

Op die basis van bevolkingsgroei en inflasie sedert Desember 2021 word bruto persoonlike inkomste op Orania teen Desember 2023 dus op sowat R400 miljoen beraam. Bruto huishoudelike inkomste word op dieselfde basis op sowat R275 miljoen beraam, terwyl sake-omset op sowat R385 miljoen beraam word. Hierdie hersiene beraming bied ’n basis vir ekonomiese beplanning vir Orania III.

 

7. Gevolgtrekkings: implikasies vir Orania III

Orania II staan op die vooraand van ’n volgende ontwikkelingsfase in die dorp se geskiedenis. Besluite wat tans geneem en uitgevoer word, sal die aard van die dorp se verdere toekoms bepaal. Dit is inderdaad ’n opwindende nuwe fase wat aan Orania III gestalte sal gee. In die beplanning van hierdie nuwe fase is dit nodig om te onderskei tussen die riglyne vir Orania III en interessante aspekte wat nie die aard van die dorp definieer nie.

As ’n onderdeel van die ontwikkeling van Orania III moet die dorpsbestuur ondersoek instel na die registrasie van beperkings op die gebruik van die woord Orania. Sodanige registrasie kan risiko vir die bestuur en inwoners beperk.

7.1 Rigtingwysers van Orania II wat Orania III moet behou en uitbou

Hierdie navorsing identifiseer rigtingwysers waarsonder Orania III op die lange duur net nog ’n plattelandse dorp sal wees, eerder as ’n samelewing met ’n strewe na groeiende selfbeskikking binne ’n volkstaatgedagte. Hierdie navorsing identifiseer tien rigtingwysers waarsonder die dorp se unieke aard verlore sal gaan. Hierdie aspekte moet natuurlik beoordeel word teen die agtergrond van Orania II se strewe na ekologiese volhoubaarheid, wat op sigself van groot belang is.

Die rigtingwysers wat geïdentifiseer is uit die literatuur wat oorweeg is, word aangebied in volgorde van belangrikheid volgens die oordeel van hierdie navorser. Die rigtingwysers wat geïdentifiseer is aan die een kant, en die volgorde van belangrikheid aan die ander kant, laat ruimte vir debat met die oog op die ontwikkeling van Orania III.

7.1.1 Groeiende selfbeskikking

Groeiende selfbeskikking is die uiteindelike oogmerk vir Orania III. Dit is verwant aan eie plaaslike bestuur. As die eie plaaslike bestuur van die dorp deur die Suid-Afrikaanse regering misken word, sal dit die ideaal van selfbeskikking in die gedrang bring. Selfbeskikking en groter onafhanklikheid van Suid-Afrika kan net by wyse van onderhandeling bewerkstellig word, met die oog op uiteindelike internasionale erkenning.

7.1.2 Plaaslike bestuur

Die volgende rigtingwyser vir die ontwikkeling van Orania III is die behoud van plaaslike bestuur kragtens die skikking wat in 2000 met die Suid-Afrikaanse regering bereik is. As hierdie skikking nie langer deur die Suid-Afrikaanse regering gerespekteer gaan word nie, sal Orania III se voortbestaan in die gedrang kom.

7.1.3 Selfwerksaamheid

Selfwerksaamheid definieer Orania as ’n Afrikaner-enklave. As selfwerksaamheid vir Orania III laat vaar word, sal die dorp en die kultuur op die dorp onherroeplik verander. Die stelsel van volkseie plaaslike arbeid, met werkspermitte vir skaars vaardighede soos tans in gebruik is, moet dus behou word ten einde Orania III se aard te beskerm.

7.1.4 Verblyfreg

Orania II toon ’n konstante invloei van mense, met die bevolking wat teen sowat 9 of 10% per jaar groei. Die huidige bevolking van die dorp word op sowat 2 875 inwoners geraam. Die oogmerk om Orania se bevolking tot 10 000 te laat groei, sal teen die historiese bevolkingsgroeikoers sowat 15 jaar neem. Groei van hierdie omvang kan egter die aard van Orania III, in vergelyking met die huidige aard van Orania II, verander.

Beheer moet gevolglik behou word oor en stelsels moet ontwikkel word vir die invloei van nuwe inwoners in Orania III deur die toepassing van die reëls vir verblyfreg. Die reëls moet egter op ’n wyse toegepas word wat die ideaal van Afrikanerselfbeskikking ondersteun en nie op ’n wyse wat oormatige beheer in die hande van die dorpsbestuur plaas nie.

Dit geld ook vir die stelsel van werkspermitte vir tydelike werk in Orania II. As die reëls vir verblyfreg en werkspermitte laat vaar word, kan die aard van Orania III verander en die dorp die karakter van ’n Afrikaner-enklave verloor. Voorts sal dit die einde van selfwerksaamheid beteken.

7.1.5 OSK Koöperatiewe Bank

Die OSK Koöperatiewe Bank se rol in die sukses van Orania II en in die toekomstige sukses van Orania III moet na waarde geskat word. Die OSK Koöperatiewe Bank se kritieke bydrae is die toestaan van behuisingslenings op eiendom wat kragtens ’n aandeleblokskema aangekoop word. Sonder hierdie bron van finansiering sal die eiendomsmark in Orania III ernstige skade ly, wat verdere ekonomiese groei aan bande sal lê.

7.1.6 Rol van die Solidariteit Beweging en kapitaalaanwending

Sonder die volgehoue steun van die Solidariteit Beweging sal Orania III nie kan groei teen die tempo waarteen Orania II die afgelope jare gegroei het nie. Beoordeel op grond van die persoonlike en jaarlikse inkomste van die inwoners van Orania II en van sake-omset, is daar eenvoudig onvoldoende kapitaal in die dorp in omloop om snelle ekonomiese groei te ondersteun. Soos Orania II, sal Orania III ook van kapitaalinvloei van buite die dorp afhanklik wees om die vlak van ekonomiese ontwikkeling vol te hou.

In ’n plattelandse gemeenskap soos Orania II en soos vir Orania III beoog word, is kapitaal ’n skaars hulpbron. Gevolglik moet sakemislukkings soos in Orania II voorgekom het, vermy word, want hierdeur word kapitaal vernietig. Die aangewese werkswyse is dus om sake-ontwikkeling aan die privaat sektor oor te laat en sodoende nie die dorp se voortbestaan deur die mislukking van openbare projekte in die gedrang te bring nie.

7.1.7 Bevolkingsgroei en behuisingsontwikkeling

Orania II se bevolking groei teen ’n versnellende tempo en die oogmerk is om Orania III se bevolking tot 10 000 te laat groei. Hierdie groei plaas egter druk op behuising en beplanning vir voldoende behuising en infrastruktuur is gevolglik van deurslaggewende belang vir Orania III. Sonder behuisingsbeplanning met gepaardgaande munisipale dienste sal die oogmerk van 10 000 mense in Orania III nie bereik kan word nie.

Behuisingsontwikkeling moet egter nie net op laekostebehuising fokus nie. Uit die berekening van die inkomste van inwoners en omset van sake-ondernemings blyk dit dat Orania II nie werklik ’n sterk “middelklas” het nie. Behuisingsontwikkelingsprojekte moet dus ook van stapel gestuur word wat dit vir die lede van die Afrikanermiddelklasgemeenskap aantreklik sal maak om in Orania II en Orania III te vestig. Sodanige vestiging sal die ontwikkeling van Orania III versnel.

Die toename in die aantal wooneenhede gaan gepaard met infrastruktuurontwikkeling om in die groeiende vraag na dienste te voorsien. Infrastruktuurontwikkeling is beide kapitaal- en arbeidsintensief, met die “opbrengs” op belegging wat oor ’n lang tyd realiseer.

7.1.8 Volhoubare benutting

Volhoubare benutting is ’n kerndoelstelling van Orania II wat op dieselfde grondslag in Orania III toegepas moet word. Hiersonder bestaan die gevaar onder meer dat Orania III se waterbronne besoedel kan word. In ’n droë deel van die land met die Oranjerivier as vernaamste waterbron, moet die benutting van water as ’n skaars hulpbron oordeelkundig beplan word, terwyl ander hulpbronne oordeelkundig gebruik moet word.

Die verbranding van ora-koepons na die vervaldatum is ’n spesifieke aspek wat nie met die volhoubare benutting en beskerming van die ekologie versoenbaar is nie.

7.1.9 Dissiplinêre kode en dorpsreëls

Orania II se dissiplinêre kode en dorpsreëls is ontwerp om ’n ordelike samelewing en goeie burgerlike verhoudings in die dorp te verseker. Hierdie ordereëls moet in Orania III gehandhaaf word om ’n funksionerende samelewing te verseker. Dorpsreëls moet egter soepel toegepas word en nie dogmaties nie.

7.1.10 Kultuurbedrywighede

Orania II word deur verskeie kultuuraspekte gekenmerk wat ook ’n rol in Orania III sal speel. Dit dra by tot verdere ontwikkeling van die dorp se Afrikaneridentiteit en die uitlewing van die ideaal van groeiende selfbeskikking.

Orania III kan voortbou op die stelsel van unieke vakansiedae. Kultuurfeeste dra by tot die bevestiging van die Afikaneridentiteit. Hierdie aspekte gee die dorp ’n eie karakter.

7.2 Ander eienskappe van Orania II wat Orania III tot voordeel kan wees

Afgesien van die rigtingwysers vir die ontwikkeling van Orania III as ’n dorp met ’n visie van groeiende selfbeskikking, is daar ander karaktereienskappe wat tot die aard van die dorp bydra. Hierdie aspekte is egter nie bepalend vir die voortbestaan van die dorp met sy huidige karakter en ideale nie.

In die konteks van hierdie navorsing word dit as gemeenskapsbou beskryf, naamlik samehorigheid en die maatskaplike welsyn van individue, groepe en woonbuurte. Die fokus van gemeenskapsbou moet onderlinge harmonie ten spyte van verskillende kerkgenootskappe, skole en ander verskille wees. Verskille en voorkeure moet nie tot beginsels verhef word nie. Onderlinge harmonie sal meer energie vir positiewe ontwikkeling beskikbaar stel.

Helpmekaar se maatskaplike dienste en Bo-Karoo Opleiding maak insgelyks ’n belangrike bydrae tot gemeenskapsbou en die ontwikkeling van die dorp se inwoners. Op die lange duur sal Orania III die vrugte van hierdie inisiatiewe pluk.

Orania II se bruto persoonlike inkomste, bruto huishoudelike inkomste en sake-omset soos op Desember 2023 toon egter dat daar nie groot welvaart op die dorp is nie. Hierdie hersiene beraming bied ’n basis vir ekonomiese beplanning vir Orania III, maar toon ook die belang van vestiging van ’n ekonomies en finansieel stabiele middelklas in Orania III.

Die uitreiking van ora-koepons en die dOra dra tot ’n gevoel van samehorigheid in Orania II by en kan dieselfde rol in Orania III speel. Die gebruik van ora is egter nie van kritiese belang vir Orania III nie, soos onder meer blyk uit die ontleding van plaaslike geldeenhede in ander dele van die wêreld. Orania II en Orania III kan sonder die ora bestaan, maar die ora kan nie sonder Orania II (en in die toekoms Orania III) bestaan nie. Hierdie navorsing toon dat sorg gedra moet word om te verseker dat ora-koepons en die dOra aan alle wetlike voorskrifte voldoen, soos uit internasionale voorbeelde blyk. Voorts moet die voordele van die registrasie van outeursreg op die ora ook ondersoek word. Laastens, as BerkShares in Massachusetts suksesvol aan die waarde van ’n mandjie goedere gekoppel word om dit teen inflasie te beskerm, is dit ’n praktyk wat die Sakekamer ook kan ondersoek om die waarde van die ora te beskerm.

Radio Orania en Koerania is verdere belangrike gemeenskapsaktiwiteite in Orania II wat Orania III tot voordeel kan wees. Soos met die ora, is die radiostasie en die koerant se oorlewing egter afhanklik van die oorlewing van die dorp, wat daarsonder kan funksioneer.

Uit die ontleding in hierdie navorsing blyk dit dat Orania II op die punt is om in Orania III te ontwikkel. Sekere rigtingwysers moet behou word om te verseker dat die karakter van Orania III, ten spyte van ekonomiese ontwikkeling en ’n groeiende aantal inwoners, steeds getrou bly aan die oogmerke tydens die aankoop van die dorp en die ontwikkeling van Orania II in die soeke na groeiende selfbeskikking.

 

Bibliografie

Sekondêre bronne

Boshoff, A. 2020. Van ossewa tot in Orania: een lewe – en meer. Orania: Die Vryheidstigting.

Boshoff, C.W.H. (Carel senior). 2008. Die Afrikanervryheidstigting (AVSTIG) 20 jaar. Voorgrond, Mei:14–18.

—. 2012. Dis nou ek: ’n outobiografie. Pretoria: LAPA Uitgewers.

Boshoff, C.W.H. (Carel IV). 2022. Tuiskoms: waar ons vandaan kom en waar ons heen gaan. Orania: Vryheidstigting.

Bristol Pound: Leaving a legacy. s.j. A celebration of Bristol Pound and Bristol Pay. https://www.bristolpoundlegacy.info (30 Oktober 2023 geraadpleeg).

CapeXit. s.j. https://capexit.org (30 Oktober 2023 geraadpleeg).

Charlemagne (skuilnaam vir ’n kommentator). 2010. An artificial kingdom moves closer to its end: Splitting Belgium will be a mess, but that is where this is going. The Economist. 14 Junie. https://www.economist.com/charlemagne/2010/06/14/an-artificial-kingdom-moves-closer-to-its-end (10 Oktober 2023 geraadpleeg).

Chasin, F., F. Schmolke en J. Becker. 2020. Design principles for digital community currencies. Proceedings of the 53rd Hawaii International Conference on System Sciences, 4122–31. https://scholarspace.manoa.hawaii.edu/server/api/core/bitstreams/ce57a5cf-3772-42a4-bd8e-482bcd602539/content (18 November 2023 geraadpleeg).

Daily Sabah. 2018. Separatists in northwest Bulgaria seek autonomy or to join Romania. 6 Januarie. https://www.dailysabah.com/balkans/2018/01/06/separatists-in-northwest-bulgaria-seek-autonomy-or-to-join-romania (10 Oktober 2023 geraadpleeg).

De Klerk, F. 2014. Orania – van dorp tot stad: ’n nuwe strategie. Orania: Orania Beweging.

Fisher, I. 1933. Stamp scrip. New York: Adelphi Company Publishers. https://userpage.fu-berlin.de/~roehrigw/fisher (27 Oktober 2023 geraadpleeg).

Gonçalves, A. 2021. What are local currencies? Examples of how to redesign the economy. Youmatter. 18 April. https://youmatter.world/en/what-are-local-currencies-examples (30 Oktober 2023 geraadpleeg).

Internet Archive: The Wayback Machine. 2012. Transylvanian separatist video emerges. 13 Augustus. https://web.archive.org/web/20121013073003/https://politics.hu/20120813/transylvanian-separatist-video-emerges (10 Oktober 2023 geraadpleeg).

Joubert, F., A. Laäs, A.M. Laäs, J. Rossouw en C. Vermeulen. 2022. ’n Perspektief op Orania se OSK Koöperatiewe Bank Beperk. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 62(4):812–29.

Keynes, J.M. 1951. The general theory of employment interest and money. Herdruk. Londen: MacMillan and Co, Ltd.

Kotze, N., R. Schoeman, S. Carow en P. Schmitz. 2020. Orania – 24 years after apartheid: The sociopolitical reanimation of a small rural town in South Africa. In Nedkov, Zlelezov, Illieva, Nikolova, Koulov, Naydenov en Dimitrov (reds.) 2020.

Kotzé, E. en B. Senekal. 2018. Employing sentiment analysis for gauging perceptions of minorities in multicultural societies: An analysis of Twitter feeds on the Afrikaner community of Orania in South Africa. The Journal for Transdisciplinary Research in Southern Africa, 14(1):a564. https://td-sa.net/index.php/td/article/view/564/883 (7 November 2023 geraadpleeg).

Kreuter, A. 2010. Self-determination, sovereignty, and the failure of states: Somaliland and the case for justified secession. Minnesota Journal of International Law, 19(2):363–98.

Loader, J.A. 1996. ’n Hervormde tradisie as heelmiddel. Hervormde Teologiese Studies, 52(4):567–89.

Lombard, J.A. 2019. A strange intermezzo: Memoirs of a political economist. Privaat publikasie met kopiereg. Beskikbaar op bestelling van Amazon by https://www.amazon.com/Strange-Intermezzo-Memoirs-Political-Economist/dp/1692967878 (17 November 2023 geraadpleeg).

McBurnie, J. 2012. Investigating the role of money: The case of salt spring dollars. Honneurstesis, Universiteit van Victoria.

Nedkov, S., G. Zlelezov, N. Illieva, M. Nikolova, B. Koulov, K. Naydenov en S. Dimitrov (reds.). 2020. Smart geography: Key challenges in geography. Cham: Springer.

News24. 2000a. Orania’s court battle this week. 6 November. https://www.news24.com/news24/oranias-court-battle-this-week-20001106 (12 Junie 2024 geraadpleeg).

—. 2000b. Orania retains status quo. 5 Desember. https://www.news24.com/news24/orania-retains-status-quo-20001204 (12 Junie 2024 geraadpleeg).

Newton, C. 2017. Which other regions want to secede from Spain? Aljazeera. 27 Oktober. https://www.aljazeera.com/news/2017/10/27/which-other-regions-want-to-secede-from-spain (10 Oktober 2023 geraadpleeg).

Office of the Historian. s.j.a. Milestones 1803 to 1829: Louisiana purchase, 1803. https://history.state.gov/milestones/1801-1829/louisiana-purchase (10 Oktober 2023 geraadpleeg).

—. s.j.b. Milestones 1866 to 1898: Purchase of Alaska, 1867. https://history.state.gov/milestones/1866-1898/alaska-purchase (10 Oktober 2023 geraadpleeg).

Orania. 2016. Kaart van Orania. Facebook. https://m.facebook.com/oraniabeweging/photos/die-kaart-van-orania-wat-vandag-opgesit-is-dit-vervang-die-ou-kaart-en-help-beso/1089752297766912 (30 September 2024 geraadpleeg).

—. s.j. Skeiding van magte en ordening van gesag. Dorpsreëls beskikbaar by die Orania Dorpsraad.

Orania Besigheidsopname. 2022. Voorberei deur Urban-Econ Development Economists (Pty) Ltd. Beskikbaar by Orania Dorpsraad en Orania Ontwikkelingsmaatskappy.

Orania Beweging. s.j.a. Komaan, gaan groen! https://orania.co.za/komaan-gaan-groen (30 Oktober 2023 geraadpleeg).

—. s.j.b. Verblyfreg. https://verblyfreg.myorania.co.za/Aansoek/VerblyfregInleiding (30 Oktober 2023 geraadpleeg).

—. s.j.c. www.orania.co.za (30 Oktober 2023 geraadpleeg).

Orania Dorpsraad. 2022. Orania verblyfregbeleid: weergawe 4. Junie. Dokument beskikbaar by Orania Dorpsraad.

Orania Ontwikkelingsmaatskappy. s.j. Wie is ons? https://oraniaontwikkelingsmaatskappy.co.za/oor-ons (12 November 2023 geraadpleeg).

Orania Sakekamer. s.j. Die ora: Orania se eie ruilmiddel. Inligtingspamflet beskikbaar by die Orania Sakekamer (sakekamer@oranet.co.za).

Orania Sosio-Ekonomiese Opname. 2022. Voorberei deur Urban-Econ Development Economists (Pty) Ltd. Beskikbaar by die Orania Dorpsraad en Orania Ontwikkelingsmaatskappy.

Orania Transitional Representative Council and the Orania Inhabitants Association vs. The President of the Government of the Republic of South Africa and 47 others, Noord-Kaapse Hooggeregshof, 1148/2000.

Pont, A.D. 1991. Die verhouding ‘kerk en volk’ in die jare 1835–1900 in die Oorvaalse: ’n terreinverkenning. Hervormde Teologiese Studies, 47(3):783–99.

Radio Orania. s.j. https://radioorania.co.za (10 November 2023 geraadpleeg).

Republiek van Suid-Afrika. 1989. Wet op die Suid-Afrikaanse Reserwebank 90 van 1989, soos gewysig.

—. 1996. Grondwet 108 van 1996, soos gewysig.

—. 1998. Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture 117 van 1998, soos gewysig.

—. 2007. Co-operative Banks Act 40 of 2007, as amended.

—. 2008. Maatskappywet 71 van 2008, soos gewysig.

Rossouw, J. 2023. ’n Beraming van die jaarlikse persoonlike inkomste en jaarlikse huishoudelike inkomste van Orania in 2021. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 63(4):908–20.

—. 2024. Die ora se eerste 20 jaar. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 64(2):219–39.

Senekal. B. 2019. ’n Netwerkontleding van die instellingsnetwerk op Orania. LitNet Akademies (Ekonomiese en Bestuurswetenskappe), 16(3):1–24.

—. 2021. Die eerste 40 jaar van Orania. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 61(2):526–51.

The Economist. 2018. Scottish nationalists want to take back control. 11 Oktober. https://www.economist.com/britain/2018/10/11/scottish-nationalists-want-to-take-back-control (10 Oktober 2023 geraadpleeg).

—. 2020. The money-go-round: Will old-fashioned scrip make a comeback? 22 Januarie. https://www.economist.com/finance-and-economics/2009/01/22/the-money-go-round (27 Oktober 2023 geraadpleeg).

Van der Merwe, E.J., S. Mollentze, T.L.A. Leshoro, J. Rossouw en C. Vermeulen. 2014. Monetary economics. 2de uitgawe. Kaapstad: Oxford University Press.

Visser, J. en M. Visser. 2022. Gariepdam: Toeka tot nou. Privaat uitgegee. Boek beskikbaar by Groep 7 Drukkers en Uitgewers (Edms.) Bpk.

Wikipedia. 2024. Orania-kaart. https://af.wikipedia.org/wiki/L%C3%AAer:Orania_Kaart.png (30 September 2024 geraadpleeg).

Wills, S. 2021. End of the Bristol Pound: Why did it fail and what next? Bristol World. 14 Oktober. https://www.bristolworld.com/business/bristol-money-pound-3339270 (12 Junie 2024 geraadpleeg).

Wirz, H. 2008. Dr. Heinz Wirz met die Ora Geldstelsel van Orania. Edenvale: Privaat publikasie deur Heinz Wirz.

Witt, S. 2023. Community issued currency: A tool for relocalizing economies. Voorgelê aan die Roundtable on Credit Design & Community Development at Harvard Law School’s Money as a Democratic Medium 2.0 Conference, 15 tot 17 Junie. https://centerforneweconomics.org/publications/community-issued-currency-a-tool-for-relocalizing-economies (27 Oktober 2023 geraadpleeg).

Wood, J.R. 1981. Secession: A comparative analytical framework. Canadian Journal of Political Science,14(1):107–34. https://www.jstor.org/stable/3230396?seq=5 (27 Oktober 2023 geraadpleeg).

Primêre bronne

Boshoff, C.W.H. Persoonlike gesprekke (3 Oktober 2023, 4 Oktober 2023 en 18 Desember 2023) met mnr. Carel Boshoff IV, seun van prof. Carel en mev. Anna Boshoff, woonagtig in Orania.

Boshoff, W. Persoonlike gesprekke met dr. Wynand Boshoff, seun van prof. Carel en mev. Anna Boshoff, woonagtig in Orania. Die persoonlike gesprekke was op verskeie datums.

Correia, T. E-poskorrespondensie (2 September 2023, 18 September 2023, 11 Oktober 2023, 12 Oktober 2023 en 10 Mei 2024) en persoonlike (4 Oktober 2023) en telefoniese gesprekke (1 September 2023, 10 Oktober 2023 en 25 Maart 2024) met mnr. T. Correia, voorsitter van die Orania Sakekamer.

De Klerk, F. E-poskorrespondensie en persoonlike en telefoniese gesprekke met mnr. F. de Klerk, besturende direkteur van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy. Die korrespondensie en persoonlike en telefoniese gesprekke was op verskeie datums.

Kemp, J. Persoonlike en telefoniese gesprekke met mnr. J. Kemp, ’n joernalis by Pretoria FM wat in Orania woonagtig is. Die korrespondensie en persoonlike en telefoniese gesprekke was op verskeie datums.

Maritz, H. Persoonlike (4 Oktober 2023) en telefoniese gesprekke (3 Oktober 2023 en 27 Maart 2024) met mnr. H. Maritz, bestuurder van die OSK Koöperatiewe Bank.

Persoonlike besoeke aan Orania in Januarie 2023, April 2023, Oktober 2023 en Januarie 2024.

Senekal, B. E-poskorrespondensie (6 November 2023, 7 November 2023, 8 November 2023, 13 November 2023, 16 November 2023, 2 Februarie 2024, 12 Februarie 2024, 20 Februarie 2024, 27 Februarie 2024 en 8 Mei 2024) met mnr. B. Senekal, ’n navorser oor Orania, wie se navorsingsbevindings in hierdie navorsing gebruik word.

Snyman, G. E-poskorrespondensie en persoonlike en telefoniese gesprekke met mnr. G. Snyman, dorpsbestuurder van Orania. Die korrespondensie en persoonlike en telefoniese gesprekke was op verskeie datums.

Taljaard, L. Persoonlike gesprek (4 Oktober 2023) met mnr. L. Taljaard, eienaar van ’n sakeonderneming op Orania.

Vergadering met verteenwoordigers van Orania Sakekamer op 4 Oktober 2024.

 

Eindnotas

1 Die artikel weerspieël die persoonlike siening en mening van die skrywer en moet nie aan enige instansies toegeskryf word nie. Die outeur bedank die Orania Dorpsraad, die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, die Orania Sakekamer en die OSK Koöperatiewe Bank vir data en vir hulp met hierdie navorsing. Enige foute of weglatings bly egter die outeur se verantwoordelikheid. Voorts sou hierdie navorsing nouliks moontlik gewees het sonder die omvattende navorsing oor Orania deur Senekal (2021) en die outobiografieë van prof. Carel Boshoff (Carel senior) (Boshoff 2012) en me. Annatjie Boshoff (Boshoff 2020).

2 Mnr. Carel Boshoff IV is ’n seun van prof. Carel Boshoff (Carel senior) en mev. Anna Boshoff en ’n kleinseun van dr. H.F. Verwoerd.

3 Volgens Kotzé en Senekal (2018) is Avstig tans bekend as die Orania Beweging.

4 Dr. Wynand Boshoff is ’n seun van prof. Carel Boshoff (Carel senior) en mev. Anna Boshoff.

5 Hierdie kafee was aanvanklik as Oase Kafee bekend, maar die naam het intussen verander na Afsaalkafee (Boshoff 2020:346).

6 Voorheen die Maatskappywet van 1973.

7 Sien nota 4.

8 Mnr. André van den Berg is ’n skoonseun van prof. Carel en mev. Anna Boshoff.

9 ’n Kopie van Orania II se dissiplinêre kode en dorpsreëls is elektronies per e-pos beskikbaar gestel deur G. Snyman, dorpsbestuurder van Orania II.

10 Dabalorivhuwa is ’n woord in die Tshivenda-taal wat losweg in Afrikaans vertaal kan word as “wat lank terug begrawe is, moet uitkom”, of as “die geld van lank gelede moet ontbloot/uitkom/ontvang word”.

 

LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHET) en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys van goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of approved journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel en kan kwalifiseer vir subsidie deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding.

The post Orania na 60 jaar: rigtingwysers vir Orania III uit ’n literatuuroorsig van Orania II en ander bronne first appeared on LitNet.

The post Orania na 60 jaar: rigtingwysers vir Orania III uit ’n literatuuroorsig van Orania II en ander bronne appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 778

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>