Quantcast
Channel: LitNet Akademies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 796

’n Verkenning en vergelyking van houdings en persepsies rakende Afrikaans in die Khomasstreek van Namibië ná drie dekades van onafhanklikheid

$
0
0

’n Verkenning en vergelyking van houdings en persepsies rakende Afrikaans in die Khomasstreek van Namibië ná drie dekades van onafhanklikheid1

Nicolette Harmse Steyn, Departement van Geesteswetenskappe en Kuns, Universiteit van Namibië2

LitNet Akademies Jaargang 21(1)
ISSN 1995-5928
https://doi.org/10.56273/1995-5928/2024/j21n1g6

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Ná drie dekades van Namibiese onafhanklikheid is houdings en persepsies ten opsigte van Afrikaans ’n belangrike en insiggewende studieveld. Daarom het hierdie studie beoog om hierdie houdings en persepsies wat bestaan het en steeds bestaan tussen sprekers, sowel as onder niesprekers, wat in kontak is met die verskillende groepe binne die betrokke taalgemeenskap, te boekstaaf.

Dit was egter nie moontlik om die oorgrote meerderheid van die Khomasstreek-inwoners se houding teenoor en persepsies oor Afrikaans in te samel nie, en daarom is ’n gerieflikheidsteekproef gebruik, wat beteken dat die resultate nie noodwendig verteenwoordigend is van die hele bevolking van die Khomasstreek nie.

Die studie fokus op houdings en persepsies soos dit indirek waargeneem is, en nie noodwendig op die redes vir sulke persepsies of houdings nie. Houdings en persepsies is slegs binne die parameters van die veranderlikes wat in die navorsingsinstrument voorgestel word, gemeet, en dit het betrekking op die Afrikaanse taal as ’n konstruk eerder as die Afrikaanse taalgemeenskap. ’n Studie oor taalhoudings is belangrik in ’n veeltalige land soos Namibië, aangesien dit ’n aanduiding kan gee van die moontlike voortbestaan en verspreiding van tale en die geassosieerde kulture.

’n Gemengdemetodenavorsingsontwerp (kwalitatief en kwantitatief) is vir hierdie verkennende navorsing gebruik, met behulp van ’n opnamemetodologie.

Die elektroniese vraelys is met ’n skakel via e-pos en sosiale media versprei, terwyl die gedrukte vraelyste met die hand versprei is aan moontlike respondente wat nie toegang tot die aanlyn vraelys kon kry nie. Daar is 266 response op die elektroniese vraelys en 34 respondente het die gedrukte vraelys voltooi (300 respondente). Daar was ’n item in die vraelys wat respondente versoek het om aan te dui hoe lank hulle al in die Khomasstreek woon. ’n Aantal respondente is daardeur uitgeskakel en 275 Khomasstreek-respondente het oorgebly.

Die resultate bevat verskillende houdingsprofiele (positiewe, neutrale en negatiewe houdings), wat saamgestel is uit sekere vrae en hul moontlike reaksies. Die reaksies van die drie verskillende groepe – Afrikaanssprekende respondente, nie-Afrikaanssprekende respondente en veeltalige respondente (Afrikaans en ander tale) – is in die relevante profiele verdeel. Laastens is die respondente se persepsies rakende Afrikaans ook gedokumenteer.

Die navorsing en resultate toon dat die meerderheid respondente ’n hoofsaaklik positiewe houding teenoor tale in die algemeen, asook teenoor Afrikaans, het. Daar bestaan egter ’n wanpersepsie onder die jonger generasies van die Afrikaanssprekendes oor hoe Afrikaans in Namibië ontstaan het.

Trefwoorde: Afrikaans; houdings; Namibië; onafhanklikheid; persepsies; sosiolinguistiek

 

Abstract

An exploration and comparison of attitudes and perceptions regarding Afrikaans in the Khomas region of Namibia after three decades of independence

Given the chequered history of Afrikaans in Namibia, it is to be expected that a range of attitudes and perceptions regarding Afrikaans has existed and still exists among its own speakers as well as among non-Afrikaans speakers who are in contact with the various groups within its speech community. After three decades of Namibian independence these attitudes and perceptions remain largely undocumented. Therefore this study aimed to document these attitudes and perceptions.

It was, however, not possible to gather a clear majority of the Khomas region’s residents’ attitudes towards and perceptions about Afrikaans. Therefore a convenience sample was drawn, which means that the results are not necessarily representative of the entire population.

The study focused on perceptions and attitudes as they were indirectly observed, and not necessarily on the reasons for such perceptions or attitudes. Attitudes and perceptions were measured only within the parameters of the variables that are represented in the research instrument, and they pertain to the Afrikaans language as a construct rather than the Afrikaans speech community.

A mixed-method research design was used for this exploratory research, utilising a survey methodology. The study was mostly qualitative in that it reported subjective results, because participants’ attitudes and perceptions would form the basis of conclusions. Quantitatively, attitudinal variables within and across groups were quantified and processed statistically. Quantitative variables like age, and gender binaries were also included for purposes of comparison, as well as the following various groups: Afrikaans-speaking respondents, non-Afrikaans-speaking respondents and multilingual respondents (Afrikaans and other languages).

The electronic questionnaire was distributed in May 2020 with a link via e-mail and social media, while the printed questionnaires were distributed by hand to potential respondents who could not access the online questionnaire. There were 266 responses to the electronic questionnaire and 34 respondents completed the printed questionnaire – thus 300 respondents in total. There was a question in the biographical part of the questionnaire that requested respondents to indicate how long they have been living in the Khomas region. This ensured that any questionnaires of non-residents of the Khomas region could be excluded from the data analysis. After the last mentioned exclusion the number of respondents had been reduced to 275.

The results contain different attitudinal profiles (positive, neutral and negative attitudes), which were constructed from certain questions and their possible responses. The responses of the three different groups – Afrikaans-speaking respondents, non-Afrikaans-speaking respondents and multilingual respondents (Afrikaans and other languages) – were divided into the relevant profiles. Lastly, the respondents’ perceptions regarding Afrikaans were also documented.

The research and results show that the majority of respondents have a largely positive attitude towards languages in general, as well as towards Afrikaans. However, there is a misperception among the younger generations of Afrikaans speakers about how Afrikaans originated in Namibia. From this it can be concluded that the younger generations are uninformed about their own language, and this could possibly influence future attitudes and perceptions towards Afrikaans in Namibia. The results of the three different groups – Afrikaans-speaking, non-Afrikaans speakers and multilingual speakers (Afrikaans and other languages) – indicate that Khomas residents generally have a positive attitude towards Afrikaans and that they would like to promote Afrikaans and advise other people – as well as their own future children – to learn Afrikaans. However, there was an exception for the non-Afrikaans-speaking group where they felt more neutral about the statement that they would one day teach their children Afrikaans, but their attitudes were also more positive than neutral or negative.

From this study, conducted in 2020, it is clear that the respondents in the Khomas region still cherish the perception that Afrikaans – even 30 years after independence – is still the lingua franca in the Khomas region.

A recommendation for future studies is to involve a larger part of the Khomas region, or perhaps even all the regions of Namibia, to get a clearer idea of the attitudes towards and perceptions about Afrikaans in Namibia as a whole. In the event of such a follow-up study it may be good to use a method other than the convenience sample in order to obtain feedback from a definite sample size. The data generated by this study could also be utilised further; for example, different perceptions/attitudes could be measured based on the level of education, gender, age, etc. It would also be good to conduct similar studies testing attitudes and perceptions regarding other languages in Namibia. Furthermore, it may also be good to instruct learners in schools about the origin of Afrikaans in Namibia – not necessarily through history lessons, but through comprehension texts or literature dealing with the origin of Afrikaans in Namibia. Further studies on attitudes towards Afrikaans – or other Namibian languages – would probably also yield some very interesting findings.

Keywords: Afrikaans; attitudes; independence; Namibia; perceptions; sociolinguistics

 

1. Inleiding

Gegewe die geskakeerde geskiedenis van Afrikaans, veral ten opsigte van Afrikaans se assosiasie met apartheid, word gevolgtrekkings oor die aard en rol van Afrikaans soms gegrond op persepsies en houdings wat nie die feite verteenwoordig nie. Terwyl daar dikwels beweer word dat Afrikaans danksy die Suid-Afrikaanse koloniale bewind in Namibië ontstaan het, dui die historiese feite op die Oorlam- en Bastervolke as die hoofrolspelers in die vroeë vestiging van Afrikaans (destyds nog Hollands-Afrikaans). Die Oorlam- en Bastervolke het vanuit die Kaapkolonie gevlug en hulself in die gebied noord van die Oranjerivier tot ten minste die huidige Windhoek gevestig, en gevolglik gesorg dat Afrikaans ’n gevestigde taal in Namibië is, selfs nog lank voor die aanbreek van die Duitse koloniale era van 1884–1915. Duits moes gevolglik tydens die Duitse koloniale heerskappy met Afrikaans as ’n gevestigde lingua franca, as taal van hoër funksies én as moedertaal van baie groepe in die land meeding. Ná 1915 het die Suid-Afrikaanse bewind saam met Engels, ook Hollands as amptelike taal meegebring. In 1925 is Hollands as een van die amptelike tale in Namibië met Afrikaans vervang (Stals 2008; Stals en Ponelis 2001:2–4). Van 1948 tot selfs ná Namibië se onafhanklikwording in 1990 is veral Standaardafrikaans geassosieer met die onderdrukkende Suid-Afrikaanse apartheidsregime teen wie die nasionale bevrydingstryd gevoer is (Maho 1998). Met die verandering van die amptelike taal van Namibië was die aanspraak daarop om Engels te ken nie meer ’n kwessie van sosiopolitieke houdings nie, maar een van werklike bevoegdheid (Maho 1998). Na aanleiding van laasgenoemde veronderstel Maho dat die betreklik negatiewe vooronafhanklikheidshoudings teenoor Afrikaans en ander inheemse tale ’n positiewe verandering in die toekoms kan ondergaan, en dat die welwillende houding teenoor Engels in ’n mate sal afneem vanaf verheerliking na ’n meer neutrale houding.

Beuke (1997) skryf in ’n artikel wat handel oor die kontak en konflik van Afrikaans in Namibië dat Afrikaans op daardie stadium (1997) nog die lingua franca in Namibië was, maar dat hierdie funksie tien jaar later, dit wil sê teen 2007, waarskynlik deur Engels vervul sou word. Groenewald (2010) meld egter dat Afrikaans 20 jaar ná onafhanklikwording steeds die status van lingua franca in Namibië behou, ten spyte van ’n veranderde politieke klimaat. Stell en Groenewald (2016) het bevind dat Afrikaans in Namibiese stedelike kontekste aansienlike bedekte prestige besit as ’n medium vir interetniese kommunikasie, asook dat Engels tipies gebruik word binne formele kontekste en vir kommunikasie met onlangse migrante uit die noordelike distrikte, waar Afrikaans histories minder sigbaar is. Verder beweer Stell en Groenewald (2016:1130):

Die posisie van Afrikaans as ’n lingua franca kan in die toekoms bedreig word deur ononderbroke migrasiestrome uit die noorde. Maar aanduidings dat taalverskuiwing dikwels plaasvind na Afrikaans (en Engels) onder lank reeds verstedelikte lede van noordelike etniese groepe, dui daarop dat daar nog ruimte is vir die status quo.

Uiteindelik is Afrikaans, wat een van die 13 nasionale tale van Namibië is (Shah en Zappen-Thomson 2017:129), waarskynlik die enigste inheemse taal in Namibië wat as die moedertaal in veelvuldige kulture funksioneer, soos verteenwoordig deur veelvuldige variëteite van die taal.

As gevolg van Afrikaans in Namibië se geskakeerde geskiedenis, kan daar verwag word dat ’n verskeidenheid houdings en persepsies ten opsigte van Afrikaans bestaan het en steeds bestaan tussen sprekers, sowel as onder niesprekers wat in kontak is met die verskillende groepe binne die betrokke taalgemeenskap. Die doel van hierdie studie is om Afrikaanssprekende sowel as nie-Afrikaanssprekende inwoners van die Khomasstreek (sentraal geleë in Namibië) se houdings en persepsies rakende Afrikaans ná drie dekades van onafhanklikheid te ondersoek, om die houdings en persepsies van die Afrikaanssprekende inwoners met die houdings en persepsies van nie-Afrikaanssprekende inwoners van die Khomasstreek in Namibië te vergelyk en te kontrasteer, en om enersyds moontlike verhoudings tussen Khomas-inwoners se persepsies en houdings met betrekking tot taal en tale oor die algemeen te ondersoek, en andersyds hul persepsies en houdings met betrekking tot Afrikaans te ondersoek. Hierdie studie het beoog om hierdie houdings en persepsies ten minste gedeeltelik te boekstaaf. Die huidige studie het gefokus op die taalhoudings van Khomasstreek-inwoners teenoor die Afrikaanse taal as ’n konstruk. Hierdie studie kan ’n aanduiding gee van die status van Afrikaans binne die breër konteks van nasionale eenheid en versoening.

 

2. Literatuuroorsig

2.1 Persepsie, houding en taalhouding

Vir hierdie artikel is dit belangrik om die terme persepsie, houding en dan veral ook taalhouding te definieer.

Volgens Du Plessis (2019) word ’n verskynsel waargeneem, en dan geïnterpreteer, en daarna ontstaan ’n persepsie. As gevolg hiervan verteenwoordig persepsie ons gewaarwording van ’n huidige situasie in terme van ons vorige ervaring. ’n Gebrek aan ondervinding kan ’n persoon vatbaar maak vir foutiewe interpretasie van dit wat waargeneem is (Du Plessis 2019). Sprekers se persepsies van Afrikaans word dus beïnvloed deur hulle persoonlike ervarings met sprekers van verskillende tale oor die algemeen, met sprekers van Afrikaans spesifiek, asook die omgewing waarin hulle hul bevind. Nadat ’n persepsie na aanleiding van vorige ervaring gevorm is, ontwikkel ’n persoon ’n spesifieke houding teenoor die betrokke verskynsel – in hierdie geval die Afrikaanse taal.

Houdings kan nie direk waargeneem word nie, maar word gedemonstreer deur werklike gedrag, byvoorbeeld hoe mense die sprekers van ander tale behandel (vermy/benader), asook in hulle begeerte (of nie) om ’n ander taal aan te leer (SIL International 2018).

Volgens Bohner en Wanke (2002) kan die werksdefinisie vir die term houding soos volg daar uitsien: ’n evaluering van ’n voorwerp of gedagte. Verder verduidelik Eagly en Chaiken (1993) dat ’n houding in terme van hierdie definisie ’n hipotetiese konstruk is wat nie direk waarneembaar is nie, maar uit waarneembare antwoorde afgelei kan word. Houdings word ook beskou as voldoende om identifikasie en meting moontlik te maak. Die entiteite wat gevolglik ondersoek en evalueer word, staan bekend as houdingsobjekte en omvat houdings teenoor voorwerpe, individue, instellings, gebeure en abstrakte idees (McKenzie 2010:25). In die geval van hierdie studie is dit houdings teenoor abstrakte idees en gebeure wat ondersoek en evalueer word, naamlik taal as ’n konstruk en die geskiedenis en sosiale stand daarvan (gebeure wat die taal tot stand gebring het en steeds veranderinge voortbring).

Houdings is om verskeie redes funksioneel belangrik vir individue. Een van hierdie funksies van ’n houding is om by te dra tot kennisorganisasie en om strategieë vir benadering en vermyding te rig (Perloff 2003). Hierdie kennisfunksie verwys na die noodsaaklike en dalk ook outomatiese proses om stimuli in die omgewing te kategoriseer. Die indeling van stimuli is afhanklik van konteksfaktore en individue klassifiseer stimuli in dimensies soos goed/sleg of vriendelik/vyandig. Daarom word daar geglo dat houdings belangrik is omdat dit ’n kognitiewe skema lewer, dit wil sê houdings bied ’n eenvoudige struktuur vir die individu om ’n andersins ingewikkelde en dubbelsinnige omgewing te kategoriseer en te hanteer. Houdings kan gevolglik ’n kennisfunksie vervul omdat dit die individu toelaat om sin te maak van die wêreld, dit voorspelbaar te maak of te voel dat hy/sy effektief funksioneer (Erwin 2001).

Sosiale sielkundiges stem oor die algemeen saam dat ’n houding ’n evaluerende reaksie op ’n objek (persoon/plek) is. In ooreenstemming met hierdie siening definieer ons taalhoudings as evaluerende reaksies op taal. Evaluerende oortuigings oor taal kan in twee hooftipes verdeel word: oortuigings oor verskillende taalvariëteite en oortuigings oor sprekers van verskillende taalvariëteite (Dragojevic 2021). Die oortuigings/houdings wat uit hierdie studie voortspruit, het egter slegs betrekking op die Afrikaanse taal in Namibië as ’n konstruk en nie op die Namibiese Afrikaanse taalgemeenskap nie.

Taalhoudings kan gemeet word aan die verspreiding en omvang van die gebruik van die taal, asook aan die individu se houding teenoor die gebruik daarvan. Volgens Fishman en Rubal-Lopez (1992) kan houdings teenoor taalvariëteite ’n invloed hê op die mate waarin sekere groepe (soos sprekers van streeksdialekte of minderheidstale) aan hoër onderwys deelneem, of werksgeleenthede beïnvloed. Taalhoudings kan verder bepaal of en tot watter mate tale of dialekte versprei of verval. Fishman en Rubal-Lopez meld verder dat positiewe houdings teenoor (variëteite van) ’n internasionale taal soos Engels beslis ’n belangrike faktor in – en miskien selfs die belangrikste bepaling van – die wêreldwye verspreiding daarvan is. ’n Studie oor taalhoudings is belangrik in ’n veeltalige land soos Namibië, aangesien dit ’n aanduiding kan gee van die moontlike voortbestaan en verspreiding van tale en die geassosieerde kulture.

Baker (1992:29–30) identifiseer agt hoofareas van taalhoudings, naamlik houding teenoor taalvariasie; houding teenoor dialek en spraakstyl; houding teenoor die aanleer van ’n nuwe taal; houding teenoor ’n spesifieke minderheidstaal; houding teenoor taalgroepe, gemeenskappe en minderhede; houding teenoor taallesse en houding van ouers teenoor taallesse; houding teenoor die gebruike van ’n spesifieke taal; houding teenoor taalvoorkeur.

Hierdie studie fokus op die volgende areas: houding teenoor ’n spesifieke minderheidstaal;3 houding teenoor die aanleer van ’n nuwe taal; houding teenoor die gebruike van ’n spesifieke taal; en houding teenoor taalvoorkeur. Die meerderheid taalhoudingstudies fokus gewoonlik op moedertaalsprekendes se persepsies van tale, maar persepsies van niemoedertaalsprekers is ook belangrik wat sosiolinguistiek betref. Juis daarom is ook niemoedertaalsprekers in hierdie studie betrek. Studies wat die houding van tweedetaalleerders ten opsigte van taalverwerwing ondersoek, verhoog die bewustheid dat taalleerders ’n verskeidenheid dinge gelyk moet hanteer, bv. hul eie gevoelens, stereotipes, vooroordele en verwagtinge, asook die linguistiese eienskappe van die taal (Friedrich 2000:222; McKenzie 2008:66).

2.2 Ontleding van houdings en persepsies

’n Taalhouding is iemand of ’n groep se evaluering van ’n taal waarin sy/haar voorkeure ten opsigte van, en afkere van, die spesifieke taal waargeneem kan word.

Deur middel van drie houdingsprofiele, naamlik positief, negatief en neutraal, het ek vasgestel watter oorhoofse houdings die respondente teenoor Afrikaans het. Daar gaan ook melding gemaak word van verskeie persepsies wat hierdie groepe koester, aan die hand van ’n persepsieprofiel.

2.3 Opsomming van bestaande taalhoudingstudies

Bestaande studies wat oor taalhoudings handel, is onder andere Belmihoub (2018), McKenzie (2010), Schlettwein (2015), Parker (2015), Maartens (1997) en Pienaar-Louw (1997).

Belmihoub (2018) ondersoek taalhouding onder Algerië se eerste- en tweedejaar-ingenieurstudente aan ’n Algeriese universiteit. Die studie het ten doel om Algeriërs se houding teenoor die teenwoordigheid van Engels en ander tale wat in Algerië gebruik word, te beskryf. Houdings van die bogenoemde studente aan ’n Algeriese universiteit word ondersoek in ’n poging om houdings teenoor die gebruik van Engels vir wetenskap en tegnologie beter te verstaan. Daarbenewens word verhoudings tussen Engels en ander tale beskryf, tesame met verhoudings tussen taalgebruikersgroepe (bv. Derja- en Tamazight-sprekers). ’n Steekproef van 101 deelnemers het op ’n vraelys met 51 items gereageer. Die resultate van die vraelys toon ’n sterk voorkeur vir Moderne Standaardarabies (MSA), Engels en Frans deur moedertaalsprekers van Algeriese Arabies (Derja). Inheemse sprekers van Tamazight (’n Berberse taal) verkies MSA, Engels, Frans en Tamazight. Deelnemers was verdeeld oor baie vrae rakende MSA en Tamazight. Daar is ook bevind dat respondente Engels verkies het as ’n nuttige middel van ekonomiese geleenthede en kennisoordrag. ’n Oorweldigende meerderheid respondente het meertaligheid in Algerië as positief gesien. Interessant genoeg het beide Derja- en Tamazight-moedertaalsprekers ’n voorstel om aan Derja ’n amptelike politieke status toe te ken, eenparig verwerp, en hul ondersteuning gegee vir die onderrig van Engels en Frans op skool.

Die fokus van McKenzie (2010) se ondersoek was veral op die sosiale sielkunde van Engels as ’n wêreldtaal in ’n era van toenemende globalisering en die wêreldwye verspreiding van Engels as ’n middel van internasionale kommunikasie. As gevolg van laasgenoemde word die besondere relevansie van die ondersoek na die houdings van niemoedertaalsprekers teenoor Engels, en bewustheid van die Engelse taalvariasie beklemtoon. Om beide teoretiese en praktiese redes het die informante wat gekies is om aan die studie deel te neem, geheel en al uit Japannese studente bestaan wat Engels aan universiteite in Japan aanleer. Analises van die versamelde data het ook die belangrikheid van spesifieke sosiale faktore in die bepaling van die leerders se houdings teenoor variëteite van Engels getoon. Om die ingewikkeldheid van die uiteindelike navorsingstudie-ontwerp te beperk en om moontlike vreemde veranderlikes te beperk, is daar besluit om slegs vroulike sprekers van Engels vir evaluering op te neem. Om die potensieel verwarrende gevolge van luisteraar-uitputting te verminder, is ook opnames van slegs ses sprekers (en dus ses variëteite van Engels) vir evaluering aangebied. Die studie se resultate dui op die teenwoordigheid van ’n affektiewe komponent, benewens ’n kognitiewe komponent van die leerders se houdings teenoor variëteite van Engels, en veral teenoor vorme van Engels wat deur Japannese gepraat word.

Die studie van Schlettwein (2015) doen verslag oor ’n ondersoek na veeltalige studente aan die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van die Wes-Kaap se houdings teenoor hulle moedertale en ander tale. Daar word spesifiek gefokus op houdings teenoor Afrikaans, Engels en Xhosa, en daarom het die studie probeer vasstel in watter domeine dié taalhoudings manifesteer en wat die redes vir die waargenome houdings is. Daar is ook ’n vergelyking getref tussen die taalhoudings wat deur die studente aan die twee universiteite gerapporteer is. ’n Aanlyn taalhoudingsvraelys is deur 140 studente aan die twee universiteite voltooi. Die resultate het getoon dat die respondente ’n gunstigste houdings teenoor Engels openbaar, gevolg deur Afrikaans. Die data dui verder daarop dat Engels die voorkeurtaal in formele domeine is, terwyl die respondente eerder hulle moedertale in informele domeine verkies. Daar was geen beduidende verskille toe die taalhoudings van die twee universiteite se studente vergelyk is nie, ten spyte van die universiteite se verskillende taalbeleide.

Parker (2015) ondersoek Suid-Afrikaners wat in die Midde-Ooste woon of werk se houdings teenoor Afrikaans. Verder ondersoek die studie die gerapporteerde gedrag van Suid-Afrikaners wanneer hulle mede-Suid-Afrikaners (ongeag hul moedertaal) teëkom of ontmoet. Al die deelnemers aan die studie werk in die onderrig-, mediese of besigheidsektore in die Midde-Ooste. Die studie was gemik op die taalrepertoire van die groep Suid-Afrikaners in die buiteland, en fokus op die moontlike bydrae tot hoe die groep hulself definieer en hoe dit ook bydra tot die samestelling van hul identiteite. 33 Suid-Afrikaanse burgers wat in die Midde-Ooste werk of woon, het aan die studie deelgeneem. Hulle is almal twee- of meertalig, meestal in Engels en Afrikaans, en sommige praat ’n derde of vierde taal, soos ’n inheemse Afrikataal (byvoorbeeld Zoeloe of Xhosa) of Asiatiese taal (soos Urdu). Die navorsing het bevind dat selfs al word Engels as internasionale lingua franca beskou, mense nog steeds sterk met hul “huistale” of moedertale identifiseer wanneer dit hul individuele en groepsidentiteite beklemtoon, of ’n aanduiding is van hul etnolinguistiese andersheid. Die data dui daarop dat die Suid-Afrikaanse groepe verkies om in Afrikaans of ander Suid-Afrikaanse inheemse tale te kommunikeer terwyl hulle buite die grense van Suid-Afrika woon en werk – dit dien as vertroosting én sorg vir ’n gevoel van samehorigheid.

Maartens (1997) het navorsing gedoen om Afrikaanse tieners in KwaZulu-Natal, Suid-Afrika, se houding teenoor Afrikaans te bepaal. Sy het ondersoek ingestel na die houding van hierdie groep Afrikaanssprekendes ten opsigte van die gebruik van Engelse en/of slengwoorde as deel van die gebruikswoordeskat van Afrikaans, asook hul houding ten opsigte van die behoud of afskaling van Afrikaans, en uiteindelik ook dalk die moontlike uitsterwe van Afrikaans. Hierdie studie het binne ’n taalmilieu van Engels en Afrikaans plaasgevind, aangesien Engels die grootste invloed op Afrikaans het in KwaZulu-Natal. Verder is Engels en Afrikaans ook die twee tale wat die respondentegroep, naamlik KwaZulu-Natalse leerders, ken. Maartens het die persentasies vir die positiewe opsie én die negatiewe opsies in berekening gebring en aangetoon dat hierdie puntetoekenning daarop dui dat die respondent oor die algemeen ’n redelik positiewe houding teenoor die gebruik en voortbestaan van Afrikaans openbaar. Laasgenoemde kan gesien word in die volgende statistiek: 4 122 (44,2%) respondente het die positiewe opsie gekies; 1 353 (14,5%) respondente het die matige opsie gekies; en 3 847 (41,3%) respondente het die negatiewe opsie gekies. Volgens die navorser toon die 14,5% respondente wat die matige houding aangedui het, ’n huiwering om ’n positiewe houding aan te dui, en daarom kan die keuse van die matige opsie as potensieel eerder positief as negatief geïnterpreteer word.

Pienaar-Louw (1997) se studie het ten doel gehad om die stand van Afrikaans in Namibië ses jaar ná onafhanklikwording te bepaal. ’n Landswye opname is onder 366 meertalige graad 11-leerders in Namibiese skole gedoen. Hierdie leerders se moedertaal was Afrikaans, of hul het Afrikaans as ’n skoolvak gehad. Die vrae is hoofsaaklik só gestel om te kan bepaal wat die verhouding tussen die leerling en hul moedertaal is. Alhoewel die studie hoofsaaklik op Afrikaans fokus, toon die ingesamelde data ook inligting oor persepsies rakende die stand van ander Namibiese tale. Die studie het volgens die navorser getoon dat Afrikaans in Namibië in gevaar is omdat die jongmense nie meer praktiese nut en ekonomiese waarde aan Afrikaans (of die ander inheemse Namibiese moedertale) heg nie. Die jongmense koester wel nog ’n emosionele band met hul moedertale en hul sal ’n groot aandeel hê in die voortbestaan van Afrikaans

 

3. Navorsingsmetodes

3.1 Navorsingsontwerp

3.1.1 Navorsingsontwerp, steekproef, prosedure en data-analise

’n Navorsingsontwerp met gemengde metodes is vir hierdie verkennende navorsing gebruik, met behulp van ’n opnamemetodologie. Die studie is meestal kwalitatief, omdat dit subjektiewe resultate weergee, want deelnemers se houdings en persepsies vorm die basis van gevolgtrekkings. Die studie is ook kwantitatief omdat die houdingsveranderlikes binne en oor groepe heen gekwantifiseer en statisties verwerk word. Kwantitatiewe veranderlikes wat gebruik word, is drie verskillende groepe, naamlik Afrikaanssprekendes, nie-Afrikaanssprekendes en veeltalige sprekers (Afrikaans en ander tale).

Aangesien dit ’n verkennende studie is, is ’n gerieflikheidsteekproef gebruik om data te versamel. Die minimum steekproefgrootte is 250 en die maksimum is 400 individue. Die steekproefgrootte is gebaseer op ’n gemiddeld van die steekproefgroottes van die studies wat in die literatuuroorsig genoem is. Daar is gepoog om die steekproefsamestelling op so ’n manier te bestuur dat vergelykbare getalle respondente in terme van ouderdom, geslag, taal (Afrikaanssprekend en nie-Afrikaanssprekend) ens. ingesamel kon word.

Die vraelys het ’n loodsondersoek ondergaan om enige moontlike probleme te identifiseer en op te los voordat dit vir formele navorsing versprei is. Die elektroniese vraelyste (Google Forms) is per e-pos, WhatsApp, Facebook en Instagram versprei, terwyl die gedrukte vraelyste per hand aan potensiële respondente versprei is wat nie toegang tot die elektroniese vraelys gehad het nie. Daar is ’n vraag in die biografiese gedeelte van die vraelys wat van respondent vereis om aan te dui hoe lank (in jare) hulle al in die Khomasstreek woon. Twee van die opsies was dat hul nog nooit in die Khomasstreek gewoon het nie, of voorheen daar gewoon het, maar nie tans daar woon nie. Dit het verseker dat enige vraelyste van huidige nie-inwoners van die Khomasstreek van die data-analise uitgesluit kon word. ’n Aparte dokument het die vraelys, wat inligting oor die studie bevat het, asook my kontakbesonderhede indien iemand iets wou vra, vergesel. Laastens was daar ook ’n verklaring wat deur die deelnemer onderteken moes word, asook ’n navorsersverklaring wat deur my onderteken is. Laasgenoemde dokument is met ontvangs daarvan dadelik opsy gesit en apart gehou van die vraelyste, wat steeds anonimiteit verseker.

Die data wat vir hierdie studie ingesamel is, is aan die hand van frekwensietabelle ontleed en in beskrywende statistiek, asook staafgrafieke, sirkeldiagramme en tabelle verwerk.

3.1.2 Die sosiale-oordeel-teorie

Volgens die sosiale-oordeel-teorie weeg ’n individu elke nuwe idee op en vergelyk dit met sy/haar huidige standpunt om te bepaal waar dit op die houdingskaal in die individu se gedagtes geplaas moet word. Die sosiale-oordeel-teorie probeer dus om die onbewustelike uitsortering van idees wat plaasvind op die oomblik van waarneming te verklaar (Hovland en Sherif 1980; Griffin 2012:195). Die vrae en stellings wat in die vraelys voorkom, is dus die “nuwe idees” waarmee individue gekonfronteer word. Hulle weeg dus die vrae en stellings van die vraelys op en vergelyk dit met hul eie standpunte om te bepaal waar daardie spesifieke nuwe idee in hul gedagtes se houdingskaal geplaas moet word, met ander woorde hoe hul oor daardie vraag/stelling voel en wat hulle houding daarteenoor is. Gevolglik kan hul houdings tot ’n mate gemeet word.

3.1.3 Benaderings waarmee taalhoudings gemeet kan word

McKenzie (2010) meld dat daar vier verskillende soorte benaderings is waarmee taalhoudings gemeet kan word, naamlik die samelewingsbehandelingsbenadering (“societal treatment approach”), die direkte benadering, die indirekte benadering en ’n gemengde metodologiese benadering (“mixed methodological approach”).

Volgens McKenzie (2010) het die direkte benadering uiteraard ’n groter mate van opvallendheid omdat daar deur die respondente self verslag gedoen word oor hul houdings. ’n Direkte benadering tot die ondersoek van houdings behels gewoonlik ondervraging oor hul oortuigings, gevoelens en kennis van die houdingsvoorwerp. Direkte metodes vir die meet van taalhoudings word meestal gebaseer op die antwoorde van respondente op vraelyste of onderhoude (McKenzie 2010:42–5).

In hierdie studie is die direkte benadering gebruik, want die navorsingsinstrument was ’n vraelys wat ook houdingskale bevat en omdat ek antwoorde vanaf direkte stellings wou kry eerder as om afleidings te maak. Vraelyste word meestal gebruik wanneer die navorser antwoorde op ’n verskeidenheid vrae benodig. Dit word dikwels vir elke vraag ontwerp om ’n diskrete saak te meet en ’n punt te gee wat spesifiek op die saak van toepassing is. Dit kan egter ook so ontwerp word dat antwoorde op verskillende vrae ’n algehele punt behaal (Henerson, Morris en Fitz-Gibbon 1987:22–4).

Oppenheim (1992:130) redeneer dat die meting van taalhouding deur direkte metodes egter onderhewig is aan verskeie potensiële slaggate waarvan navorsers bewus moet wees. ’n Aantal hiervan hou verband met faktore wat taalhoudingnavorsers in gedagte moet hou tydens die opstel van vraelyste. Hipotetiese vrae vra hoe die respondente hulle sou gedra of op spesifieke gebeure reageer. Hierdie vrae sou waarskynlik nie ’n goeie voorspeller van toekomstige reaksies of gedrag wees as die aksie of gebeurtenis werklik ondervind word nie. Veelvuldige vrae bevat beide dubbele negatiewe vrae waarop ’n negatiewe antwoord dubbelsinnig sou wees, en vrae waar ’n positiewe antwoord na meer as een komponent van die vraag kan verwys (Garrett, Coupland en Williams 2003:28). Ja/nee-antwoorde moet eerder vermy word wanneer dit waarskynlik verwarring kan veroorsaak (McKenzie 2010:43). My vraelys bevat nie veelvuldige vrae of vrae wat ja/nee-antwoorde vereis nie. Daar is wel een hipotetiese stelling in die vraelys – item 33: “As ek kinders het, wil ek graag hê dat hulle ook Afrikaans leer.”

Ander faktore wat in ag geneem moet word by die gebruik van ’n direkte benadering tot die meet van taalhouding hou verband met neigings by die respondente en is belangrik tydens die data-insamelingsproses. Hierdie faktore lewer probleme op rakende die geldigheid van die versamelde data. ’n Voorbeeld van so ’n faktor is vooroordeel vir sosiale wenslikheid, wat verwys na die neiging van respondente om antwoorde te gee op vrae wat volgens hulle, die mees sosiaal toepaslike en wenslikste is (Oppenheim 1992:139). Oppenheim (1992:139) betoog dat vooroordeel vir sosiale wenslikheid dikwels van groter belang is in onderhoude as in vraelyste. Vooroordeel kan steeds voorkom in antwoorde in vraelysitems en verwys na die veronderstelde neiging dat respondente saamstem met items, ongeag die inhoud, in verklarings wat aan hulle voorgehou word (Schuman en Presser 1996:203). As gevolg van die bogenoemde redes kan bevooroordeeldheid ’n besonder ernstige metodologiese probleem wees wanneer stellings waarmee deelnemers moet saamstem of nie saamstem nie, of ja/nee-vrae deur die navorser(s) gebruik word. Juis as gevolg van laasgenoemde moet die stellings korrek geformuleer word om vooroordeel sover as moontlik uit te skakel (Schuman en Presser 1996:203). In my vraelys het ek skaalitems gebruik wat nie net positief nie, maar ook negatief geformuleer is om as teenvoeter te dien vir hierdie tipe response wat op sosiale wenslikheid gebaseer is, byvoorbeeld item 31, “Afrikaans vorm deel van die nasionale erfenis van Namibië” en item 32, “Ek geniet dit om Afrikaans te hoor” (positief geformuleer) teenoor item 26, “Afrikaans hoort nie in Namibië nie” en item 34, “Afrikaans gaan oor 30 jaar uitsterf” (negatief geformuleer).

Die eienskappe van die houding wat navorsers self het, kan ook die geldigheid van die data beïnvloed. Laasgenoemde staan bekend as die waarnemersparadoks (Perry 2005:102–3). Daar was minimale fisiese kontak tussen navorser en respondent, omdat die meerderheid respondente die vraelys elektronies ingevul het. Gevolglik was die waarnemersparadoks nie ’n groot uitdaging of slaggat tydens die navorsing van hierdie studie nie.

3.2 Navorsingsinstrumente

3.2.1 Die instrument

Elektroniese en gedrukte vraelyste is gebruik om data in te samel. Ek het my eie instrument ontwikkel, maar het sommige van die items aan die studies wat in die literatuuroorsig genoem is, ontleen. Daar is ’n Engelse elektroniese en gedrukte vraelys. Die vraelys het eerstens basiese biografiese data versamel. Tweedens is data oor houdings en persepsies van taal en tale oor die algemeen in Namibië deur Likert-skaal-items versamel. Derdens handel die vraelys oor wat die respondent spesifiek oor Afrikaans in Khomas/Namibië dink. Aan die einde van die vraelys is daar ’n oop vraag: “Enige ander kommentaar?”

3.2.2 Rede vir Engelse vraelys

’n Belangrike element van die vraelys is dat geen respondent méér aangespreek of minder ingesluit moet voel as die volgende respondent nie, want onbeheerbare veranderlikes moet tot die absolute minimum beperk word. Hoewel die Afrikaansmagtige respondent moontlik nie ’n probleem met ’n tweetalige vraelys sou gehad het nie, kon mens nie van dieselfde stand van sake verseker wees met ’n respondent wat Afrikaans nie magtig is nie. Met “probleem” bedoel ek nie dat die respondent opstandig mag word omdat hy/sy voel dat die een of ander taalreg aangetas is nie. Dit gaan gewoon om ’n neutrale en gelyke insluiting van alle respondente. As ons alle respondente presies ewe ingesluit wil laat voel deur van ’n meertalige vraelys gebruik te maak, moet die vraelys in al die betrokke tale vertaal word, en nie in net een van hulle nie. Met Engels (as amptelike taal) het ons een taal gehad waarmee ons al die respondente oor dieselfde kam kon skeer.

3.2.3 Struktuur en inhoud van die vraelys

Die vraelys bestaan uit die volgende afdelings en items. By elke item word die motiverings verskaf.

A) INFORMATION ABOUT YOURSELF

Motivering: Die eerste afdeling van die vraelys samel biografiese inligting in (steeds anoniem).

1. What is your gender?

2. What is your age?

3. What is your highest qualification?

Motivering: Die bogenoemde drie items is belangrike veranderlikes wat gebruik kan word om ’n vergelyking te tref tussen verskeie geslagte, ouderdomsgroepe, respondente se vlak van geleerdheid, en hulle houdings teenoor tale en spesifiek Afrikaans in Namibië.

4. How long have you been living in the Khomas Region now?

Motivering: Hierdie item is in die studie ingesluit om nie-inwoners van die Khomasstreek wat die studie voltooi het, se vraelyste uit te haal vóór dataverwerking plaasvind, want die studie fokus slegs op inwoners wat tans in die Khomasstreek bly. Die item is uit Pienaar-Louw (1997:73) se taalhoudingstudie oorgeneem en aangepas.

5. Where have you lived before?

Motivering: Die respondente moet aandui of hul hul lewe lank al in die Khomasstreek bly, of dalk in van die ander 13 streke van Namibië, of in ’n ander land of lande gebly het. Hieruit kan mens moontlik in ’n mate sien hoekom respondente spesifieke houdings teenoor sekere tale het.

6. How competent would you say you are in the following languages?

Motivering: Die respondent moet aandui of hy/sy vlot, gevorderd, goed, intermediêr, basies, minimaal bevoeg of onbevoeg is in die gegewe tale (Afrikaans, Engels, Duits, Khoekhoe-gowab, Oshiwambo, Otjiherero, Rukwangali, Setswana, Silozi) om uit te vind watter tale dié respondent alles kan praat. Die item is geleen en aangepas uit Parker (2015:119) se taalhoudingstudie.

7. By your estimation, how often are the following languages used at your home?

Motivering: Respondente moet op ’n skaal van 0–100% aandui hoe gereeld hul die bogenoemde tale by hul huise gebruik sodat die navorser kan uitvind watter taal/tale hul die meeste by die huis gebruik. Die item is geleen en aangepas uit Pienaar-Louw (1997:79) se taalhoudingstudie.

8. By your estimation, how often do you use the following languages outside your home (in town, in social circles, at work, etc.)?

Motivering: Respondente moet op ’n skaal van 0–100% aandui hoe gereeld hul die bogenoemde tale buite hul huise gebruik sodat die navorser kan uitvind watter taal/tale hul die meeste buite die huis (dorp, werk, sosiale kringe ens.) gebruik. Die item is geleen en aangepas uit Pienaar-Louw (1997:79) se taalhoudingstudie.

9. Which language(s) would you consider to be your first language(s)?

Motivering: Party mense het ’n spesifieke moedertaal, maar ag een van die ander tale wat hul kan praat eerder hoër/belangriker, en die ander taal word dan gesien as hul “eerste taal”. Die item is geleen en aangepas uit Pienaar-Louw (1997:74) se taalhoudingstudie.

10. In which language do you think?

Motivering: Hiermee word daar ondersoek ingestel na watter taal die Khomasstreek-inwoners gebruik wanneer hul dink. Dit sou interessant wees om te sien of dit korreleer met hul antwoord(e) by item 9.

11. If you get angry or emotional, which language do you tend to use?

Motivering: Hiermee word daar ondersoek ingestel watter taal die Khomasstreek-inwoners gebruik wanneer hul kwaad of emosioneel raak. Dit sou interessant wees om te sien of dit korreleer met hul antwoord(e) by item 9.

12. If you pray, which language do you tend to use?

Motivering: Hiermee word daar ondersoek ingestel na watter taal die Khomasstreek-inwoners gebruik indien/wanneer hul bid. Dit sou interessant wees om te sien of dit korreleer met hul antwoord(e) by item 9.

13. How do you decide which language you will use when you have to address someone you don’t know for the first time, like on the street or in a business or shop (at a counter or at the till, etc.)?

Motivering: Uit hierdie item kan mens moontlik aflei hoe respondente besluit watter taal om in sodanige situasies te gebruik.

14. If you could choose, in which language would you prefer to be taught or your children to be taught (when attending school, university, etc.)?

Motivering: Hiermee word daar ondersoek ingestel na watter taal die Khomasstreek-inwoners (sou) verkies waarin hul of hul kinders onderrig moet word. Dit sou interessant wees om te sien of dit korreleer met hul antwoord(e) by item 9. Die item is geleen en aangepas uit Pienaar-Louw (1997:81) se taalhoudingstudie.

15. In which language do you express your needs, feelings and emotions the best?

Motivering: Hiermee word daar ondersoek ingestel na watter taal die Khomasstreek-inwoners gebruik om hul behoeftes, gevoelens en emosies die beste te kan uitdruk. Dit sou interessant wees om te sien of dit korreleer met hul antwoord(e) by item 9.

B) WHAT DO YOU THINK ABOUT LANGUAGE AND LANGUAGES IN KHOMAS/NAMIBIA?

Motivering: Die idee van Likert-skaal-items is oorgeneem en aangepas uit Schlettwein (2015) se taalhoudingstudie. Respondente moet telkens aandui tot watter mate hulle met die gegewe stellings oor verskeie tale in Khomas/Namibië saamstem of nie. Gevolglik kan hul houdings gemeet word na aanleiding van hul onderskeie response op die stellings.

16. It is an advantage to be educated in a language you know best.

Motivering: Hiermee word daar ondersoek ingestel of die Khomasstreek-inwoners ten gunste daarvan is (of nie) om opgevoed te word in ’n taal wat hul die beste ken.

17. Namibia should strive to become a monolingual English country.

Motivering: Hierdie item toets respondente se houding teenoor Engels as die enigste taal in Namibië en gevolglik teenoor ander tale se plek in Namibië. Die item is geleen en aangepas uit Schlettwein (2015:98) en Maartens (1997:66) se taalhoudingstudies.

18. It is an advantage to speak and understand more than one language in Namibia.

Motivering: Hierdie item ondersoek of ’n Khomasstreek-inwoner voel dat hy/sy daarby baat om in verskeie tale te kan kommunikeer in Namibië, of nie. Die item is geleen en aangepas uit Schlettwein (2015:99) se taalhoudingstudie.

19. Multilingualism is an important feature of Namibia’s identity.

Motivering: Respondente moet aandui of hul saamstem dat meertaligheid ’n belangrike kenmerk van Namibië as land is, bv. wat die ekonomie, toerisme, ens. betref.

20. Which language or languages do you regard as the most important language or languages in Namibia?

Motivering: Hierdie item toets respondente se siening oor die belangrikste taal of tale in Namibië.

C) WHAT DO YOU THINK ABOUT AFRIKAANS IN KHOMAS/NAMIBIA

Motivering: Die idee van Likert-skaal-items is geneem en aangepas uit Schlettwein (2015) se taalhoudingstudie. Respondente moet telkens aandui in watter mate hulle met die gegewe stellings oor Afrikaans in Khomas/Namibië saamstem of nie. Gevolglik kan hul houdings gemeet word na aanleiding van hul onderskeie response op die stellings in die onderskeie items.

21. Which language is the most romantic or sexy language for you?

Motivering: Hierdie item oor watter taal die mees romantiese taal is, is interessantheidshalwe ingesluit om die ernstige toon ’n bietjie te verlig. Die item is geleen en aangepas uit Maartens (1997:61) se taalhoudingstudie.

22. I would advise someone who doesn’t speak Afrikaans to learn Afrikaans rather than to learn another language (except for English).

Motivering: Hierdie item poog om uit te vind of respondente dink dat nie-Afrikaanssprekendes daarby sou baat (of nie) om Afrikaans eerder as ’n ander nasionale Namibiese taal aan te leer (behalwe Engels). Die item is geleen en aangepas uit Belmihoub (2018:170) se taalhoudingstudie.

23. It is useful to be competent in Afrikaans in the business environment in the Khomas region.

Motivering: Hierdie item poog om uit te vind of respondente dink dat Afrikaans nog van belang is in die besigheidswêreld in die Khomasstreek.

24. It is useful to know Afrikaans in the Khomas region if you are looking for employment.

Motivering: Hierdie item poog om uit te vind of respondente glo mens moet bevoeg wees in Afrikaans indien jy werk wil vind in die Khomasstreek.

25. It is good that Afrikaans is offered as an option in some schools in Namibia and at some tertiary education institutions like the University of Namibia.

Motivering: Hieruit kan mens sien of die respondente glo dat dit goed is dat Afrikaans nog as ’n vak in sekere Namibiese skole en aan die Universiteit van Namibië (UNAM) aangebied word.

26. Afrikaans does not belong in Namibia.

Motivering: Hieruit kan mens sien of die inwoners dink/glo dat Afrikaans (nog) in Namibië hoort (of nie), en dus ook wat hul houding teenoor die voortbestaan van Afrikaans is. Die item is geleen en aangepas uit Parker (2015:121) se taalhoudingstudie.

27. Afrikaans is a language that is used as a common language between speakers whose native languages are different from one another (i.e. as a lingua franca) in the Khomas region.

Motivering: Hierdie item se respons kan moontlik aandui of Afrikaans steeds die lingua franca in Namibië is, en of dit dalk deur Engels vervang is.

28. Afrikaans is the language of the colonial oppressor.

Motivering: Hiermee wil die navorser uitvind of mense dink dat Afrikaans die taal van die koloniale onderdrukker is. Afhangende van watter opsie hul kies, kan daar moontlik afgelei word hoekom hul ’n bepaalde houding teenoor, of persepsie oor Afrikaans het.

29. Afrikaans is an indigenous language in Namibia. (An indigenous language would be from a linguistically distinct community that has been settled in the area for many generations.)

Motivering: Hieruit kan mens sien of die respondente van oordeel is dat Afrikaans ’n inheemse taal in Namibië is, dus ’n taal wat al vir baie generasies gevestig is in die spesifieke area.

30. Afrikaans connects people from different cultural groups.

Motivering: Hieruit kan mens sien of die respondente van oordeel is dat Afrikaans ’n verbindingstaal is tussen mense van verskillende kultuurgroepe.

31. Afrikaans is part of the national heritage of Namibia.

Motivering: Hieruit kan mens sien of die respondente van oordeel is dat Afrikaans deel is van Namibië se nasionale erfenis.

32. I enjoy hearing Afrikaans.

Motivering: Hierdie stelling poog om uit te vind of respondente daarvan hou of dit geniet om Afrikaans te hoor, of daarna te luister. Die item is geleen en aangepas uit Belmihoub (2018:170) en Parker (2015:121) se taalhoudingstudies.

33. If I have children, I would like to see that they also learn Afrikaans.

Motivering: Hieruit kan mens sien of die respondente graag sou wou hê dat hul kinders ook Afrikaans aanleer. Die item is geleen en aangepas uit Pienaar-Louw (1997:81) en Schlettwein (2015:101) se taalhoudingstudies. Daar is ook onderliggende verbande tussen items 14, 16, 25 en 33 wat sekere houdings kan openbaar.

34. Afrikaans will become extinct (die out) in 30 years from now.

Motivering: Hieruit kan mens sien wat die inwoners van die toekoms van Afrikaans dink, dus ook wat hul houding teenoor die voortbestaan van Afrikaans is.

35. How did Afrikaans come to be in Namibia?

Motivering: Hiermee wil die navorser uitvind of mense weet wanneer en hoe Afrikaans na Namibië gekom het (herkoms van Afrikaans in Namibië). Afhangende van watter opsie hul kies, kan daar moontlik afgelei word hoekom hul ’n bepaalde houding teenoor, of persepsie oor Afrikaans het. Daar is ook onderliggende verbande tussen items 28, 29 en 35 wat die rede vir sekere houdings kan openbaar.

36. How often do you hear Afrikaans?

Motivering: Hierdie item toets hoe gereeld die respondent Afrikaans hoor om te sien of Afrikaans baie – en in verskeie situasies – gepraat word.

37. Do you have any comments?

Motivering: Respondente kry hier die kans om kommentaar te lewer oor enige aspek van die vraelys, oor Afrikaans of oor tale in die algemeen.

3.2.4 Loodsondersoek

Tydens die loodsondersoek (1 April tot 30 April 2020) is daar sekere probleme geïdentifiseer en reggestel voordat die finale vraelys versprei is. Die loodsondersoek is met die elektroniese én die gedrukte vraelys gedoen. Sewe studente van UNAM het die elektroniese vraelys beantwoord. Ses respondente het die gedrukte vraelys beantwoord – laasgenoemde is nie inwoners van die Khomasstreek nie – die rede hiervoor is dat die respondente van die loodsondersoek nie in die hoofstudie gebruik mag word nie.

Die volgende probleme het na vore gekom, en is reggestel, soos aangedui:

Gedrukte vraelys:

  • Die deelnemer-verklaring het aanvanklik op die eerste bladsy verskyn, maar dit sou veroorsaak dat die studie nie anoniem is nie en daarom is beide verklarings na die aangehegte dokument “Participant Information Leaflet and Consent Form” geskuif.
  • Afdelings B en C se beskrywing is effens verander om meer verstaanbaar te wees. Daar het aanvanklik gestaan “Below are some statements about language and languages in Khomas/Namibia. Indicate to what extent you agree with each statement by making an X in the appropriate space in the table following the statement.” Dit is verander na “Below are some statements about language and languages in Khomas/Namibia. Indicate to what extent you agree with each statement, according to your opinion, by making an X in the appropriate space in the table following the statement.”
  • Tydens die drukproses het ek per abuis item 5 uitgevee, maar ek het vir respondente laat weet wat die item was.
  • Een respondent het oor item 9 gevra wat presies bedoel word met die term “indigenous language”, byvoorbeeld is dit ’n taal wat aanvanklik net in Namibië ontstaan het, of is dit al die inheemse tale wat hier gepraat word, selfs al het die taal elders ontspring/ontstaan? Ek het daarom ’n verklarende definisie onder die stelling ingevoeg, naamlik: “An indigenous language would be from a linguistically distinct community that has settled in the area for many generations.”

Aanlyn vraelys:

  • ’n Respondent het per e-pos die taal gekorrigeer (“is” in plaas van “are”) onder die “NOTE”-deel van die aanlyn vraelys waar staan dat hul die skerm nog meer na regs moet skuif, “swipe”, indien hul die vraelys op hul selfone beantwoord.
  • Die tydsduur is aangepas vanaf “The questionnaire should take you approximately between 10 and 20 minutes to complete” na “The questionnaire consists mainly of questions where you have to select a certain answer and you don’t have to type anything, except for the last question where you can leave a comment if you want to. The questionnaire should take you approximately 10 minutes to complete.” Die inligtingsparagraaf is ook in kleiner dele opgedeel.
  • Daar het aanvanklik by die deelnemer-verklaring die volgende gestaan: “a) I have read this information and consent form and it is written in a language with which I am fluent and comfortable; b) I have had the opportunity to ask questions by e-mail and all my questions have been adequately answered.”
  • ’n Respondent het per e-pos laat weet dat paragraaf b verwarring veroorsaak omdat hy/sy nog nie teen dié tyd vrae oor die vraelys kon vra en dus nie kon weet of dit dienooreenkomstig beantwoord is nie. Paragrawe a en b is soos volg verander: “a) I have read the information and consent form in the link above and it is written in a language in which I am fluent and comfortable; b) I have had the opportunity to ask questions about the information and consent form by e-mail and all my questions have been adequately answered.”
  • Items 1 tot 3 is verander na “What is your gender/age/highest qualification” en nie net die enkele woorde nie.
  • Die opsie by item 5.1 van “Another country” is uitgehaal, want dit word by item 5.2 gevra: “If you have lived in another country/countries before, please state which.”
  • By item 6 is die “Fluent (mother tongue)”-opsie verander na “Fluent”, want mens kan ook vlot wees in ’n taal wat nie jou moedertaal is nie.
  • ’n Ander respondent het vermeld dat daar nie ’n 10%-opsie by items 7 en 8 is nie, maar dit was net omdat die respondent nie verder regs geskuif het op die skerm nie. Ek het die aanvanklike nota wat aan die begin van die vraelys verskyn, ook by hierdie twee vrae gevoeg.
  • Item 9 is verander vanaf “What is the first language that you learned as a child?” na “Which language(s) would you consider to be your first language(s)?”, omdat dit vir sekere mense kan verskil van die eerste taal wat hul as kind aangeleer het.
  • Item 13 het ’n opsie, naamlik “I don’t speak”, gehad, maar dit is vervang met “I wait for the other person to speak and then use that language if I am competent in the language.”
  • Item 27 is herformuleer ter wille van duidelikheid, van “Afrikaans is a lingua franca (language of general communication) in the Khomas Region” na “Afrikaans is a language that is used as a common language between speakers whose native languages are different from one another (i.e. as a lingua franca) in the Khomas Region.”

3.2.5 Drie houdingsprofiele

Die Likert-skaal-items se response sorg vir ’n spesifieke uitkoms, afhangende van die stelling, asook die opsie wat die respondent gekies het – stem volkome saam, stem saam, neutraal, stem nie saam nie, of stem glad nie saam nie. In die volgende afdeling sal daar bespreek word watter Likert-skaal-items die spesifieke houdings (positief, negatief, neutraal) teenoor tale in die algemeen, asook teenoor Afrikaans bepaal.

3.2.5.1 Positiewe houdingsprofiel teenoor taal en tale in die algemeen

’n Positiewe houding word getoon indien respondente saamstem, of volkome saamstem, met die volgende stellings in die vraelys:

16. Dit is ’n voordeel om onderrig te word in ’n taal wat jy die beste ken.

18. Dit is ’n voordeel om meer as een taal in Namibië te praat en te verstaan.

19. Meertaligheid is ’n belangrike kenmerk van Namibië se identiteit.

’n Positiewe houding teenoor Engels word getoon indien respondente saamstem, asook volkome saamstem met die volgende stelling in die vraelys:

17. Namibië moet daarna streef om ’n eentalige Engelse land te word.

’n Positiewe houding teenoor meertaligheid word getoon indien respondente nie saamstem, asook glad nie saamstem met die volgende stelling in die vraelys nie:

17. Namibië moet daarna streef om ’n eentalige Engelse land te word.

3.2.5.2 Negatiewehoudingsprofiel teenoor taal en tale in die algemeen

’n Negatiewe houding word getoon indien respondente nie saamstem, of glad nie saamstem, met die volgende stellings in die vraelys nie:

16. Dit is ’n voordeel om onderrig te word in ’n taal wat jy die beste ken.

18. Dit is ’n voordeel om meer as een taal in Namibië te praat en te verstaan.

19. Meertaligheid is ’n belangrike kenmerk van Namibië se identiteit.

’n Negatiewe houding teenoor meertaligheid word getoon indien respondente saamstem, of volkome saamstem, met die volgende stelling in die vraelys:

17. Namibië moet daarna streef om ’n eentalige Engelse land te word.

3.2.5.3 Neutralehoudingsprofiel teenoor taal en tale in die algemeen

’n Neutrale houding word getoon indien respondente neutraal voel oor die volgende stellings in die vraelys:

16. Dit is ’n voordeel om onderrig te word in ’n taal wat jy die beste ken.

17. Namibië moet daarna streef om ’n eentalige Engelse land te word.

18. Dit is ’n voordeel om meer as een taal in Namibië te praat en te verstaan.

19. Meertaligheid is ’n belangrike kenmerk van Namibië se identiteit.

3.2.5.4 Positiewehoudingsprofiel teenoor Afrikaans

’n Positiewe houding word getoon indien respondente saamstem, of volkome saamstem, met die volgende stellings in die vraelys:

22. Ek sal iemand wat nie Afrikaans praat nie, aanraai om eerder Afrikaans te leer as om ’n ander taal te leer (behalwe vir Engels).

23. Dit is nuttig om bevoeg te wees in Afrikaans in die sakeomgewing in die Khomasstreek.

24. Dit is nuttig om Afrikaans te praat en te verstaan as jy in die Khomasstreek werk soek.

25. Dit is goed dat Afrikaans as ’n opsie in sommige skole in Namibië en by sommige tersiêre-onderwysinstellings soos die Universiteit van Namibië aangebied word.

32. Ek geniet dit om Afrikaans te hoor.

33. As ek kinders het, wil ek graag hê dat hulle ook Afrikaans leer.

’n Positiewe houding word getoon indien respondente nie saamstem, of glad nie saamstem, met die volgende stelling in die vraelys nie:

26. Afrikaans hoort nie in Namibië nie.

3.2.5.5 Negatiewehoudingsprofiel teenoor Afrikaans

’n Negatiewe houding word getoon indien respondente nie saamstem, of glad nie saamstem, met die volgende stellings in die vraelys nie:

22. Ek sal iemand wat nie Afrikaans praat nie, aanraai om eerder Afrikaans te leer as om ’n ander taal te leer (behalwe vir Engels).

23. Dit is nuttig om bevoeg te wees in Afrikaans in die sakeomgewing in die Khomasstreek.

24. Dit is nuttig om Afrikaans te praat en te verstaan as jy in die Khomasstreek werk soek.

25. Dit is goed dat Afrikaans as ’n opsie in sommige skole in Namibië en by sommige tersiêre-onderwysinstellings soos die Universiteit van Namibië aangebied word.

32. Ek geniet dit om Afrikaans te hoor.

33. As ek kinders het, wil ek graag hê dat hulle ook Afrikaans leer.

’n Negatiewe houding word getoon indien respondente saamstem, asook volkome saamstem, met die volgende stelling in die vraelys:

26. Afrikaans hoort nie in Namibië nie.

3.2.5.6 Neutralehoudingsprofiel teenoor Afrikaans

’n Neutrale houding word getoon indien respondente neutraal voel oor die volgende stellings in die vraelys:

22. Ek sal iemand wat nie Afrikaans praat nie, aanraai om eerder Afrikaans te leer as om ’n ander taal te leer (behalwe vir Engels).

23. Dit is nuttig om bevoeg te wees in Afrikaans in die sakeomgewing in die Khomasstreek.

24. Dit is nuttig om Afrikaans te praat en verstaan as jy in die Khomasstreek werk soek.

25. Dit is goed dat Afrikaans as ’n opsie in sommige skole in Namibië en by sommige tersiêre-onderwysinstellings soos die Universiteit van Namibië aangebied word.

26. Afrikaans hoort nie in Namibië nie.

32. Ek geniet dit om Afrikaans te hoor.

33. As ek kinders het, wil ek graag hê dat hulle ook Afrikaans leer.

3.2.6 Persepsieprofiel

Die volgende items is gebruik om afleidings en gevolgtrekkings oor die respondente se persepsies rakende Afrikaans te maak:

Item 27: Afrikaans is ’n taal wat as ’n gemeenskaplike taal gebruik word tussen sprekers wie se moedertale van mekaar verskil (d.i. as ’n lingua franca) in die Khomasstreek.

Item 28: Afrikaans is die taal van die koloniale onderdrukker.

Item 29: Afrikaans is ’n inheemse taal in Namibië.

Item 30: Afrikaans verbind mense van verskillende kultuurgroepe.

Item 31: Afrikaans is deel van die nasionale erfenis van Namibië.

Item 34: Afrikaans gaan oor 30 jaar uitsterf.

Item 35: Hoe het Afrikaans in Namibië ontstaan?

Item 36: Hoe gereeld hoor jy Afrikaans?

 

4. Navorsingsetiek

Respondente se deelname was vrywillig, met die opsie om enige tyd te onttrek, met geen negatiewe gevolge nie. Geen biografiese data wat ’n individu identifiseer (naam, identiteitsnommer, adres, ens.) is op die vraelys self gevra nie en daardeur word volle anonimiteit verseker. Google Forms is ’n aanlyn vraelys waar die e-pos-adres van deelnemers nie in een van die antwoorde verskyn nie; slegs die datum en tyd waarop die vraelys beantwoord is. ’n Skakel na die aanlyn vraelys is via sosiale media en per e-pos versprei. Sodra die deelnemer toegang tot die vraelys met die skakel verkry het, sou sy/haar e-pos-adres nêrens gestoor word nie. ’n PARTICIPANT INFORMATION LEAFLET AND CONSENT FORM kon met behulp van ’n skakel aan die begin van die aanlyn vraelys besigtig word. Die deelnemer moes die verklaring bevestig deur JA of NEE te kies. Die klik van een van die twee antwoorde is ’n vereiste veld (*) en die deelnemer kan nie na enige van die vraelysskerms gaan as daar op geen van die twee antwoorde of op die antwoord NEE geklik is nie. ’n PARTICIPANT INFORMATION LEAFLET AND CONSENT FORM is ook as ’n addendum saam met elke gedrukte vraelys uitgegee, en die verklarings deur die deelnemer en die navorser wat geteken moes word, verskyn ook daarop. Die addendums en vraelyste is egter apart ingegee om anonimiteit te bewaar. Navorsing het eers begin nadat etiese klaring op 6 Februarie 2020 vanaf die UNAM Navorsingsetiekkomitee verkry is (Verwysingsnommer: FHSS/557/2020).

 

5. Resultate

Die vraelys het 300 respondente gehad – 266 op die elektroniese vraelys en 34 op die hardekopievraelys. Daar is egter 25 vraelyste wat nie aan die kriterium, naamlik dat die respondent tans in die Khomasstreek bly, voldoen het nie. Die data wat dus in die bevindinge en gevolgtrekkings ontleed en bespreek is, is net die data van die 275 kwalifiserende vraelyste. Die 275 respondente is in drie groepe ingedeel na aanleiding van item 9: Watter taal sou jy as jou eerste taal beskou?

 

6. Bevindinge

Onder hierdie afdeling word die houdings en persepsies van drie verskillende groepe in die Khomasstreek van Namibië vergelyk en gekontrasteer – Afrikaanssprekendes (174 respondente), nie-Afrikaanssprekendes (53 respondente) en veeltalige sprekers (Afrikaans en ander tale – 48 respondente). Daar gaan enersyds moontlike verhoudings tussen Khomas-inwoners se persepsies en houdings met betrekking tot taal en tale oor die algemeen ondersoek word, en andersyds gaan hul persepsies en houdings met betrekking tot Afrikaans ondersoek word.

By alle besprekings in hierdie afdeling is die geldige persentasie van die steekproef of die spesifieke groepe gebruik (die aanduider geldige persentasie verteenwoordig die persentasie wanneer ontbrekende data uitgesluit word van die berekeninge).

6.1 Verskillende groepe se houdings

6.1.1 Volledige steekproef se houdings teenoor taal en tale in die algemeen

Die oorgrote meerderheid van die steekproef het ’n positiewe houding teenoor Namibiese tale in die algemeen, want hulle stem daarmee saam dat dit ’n voordeel is om onderrig te word in ’n taal wat jy die beste ken (item 16 – 90,5%), asook dat dit ’n voordeel is om meer as een taal in Namibië te praat en te verstaan (item 18 – 98,5%) en dat meertaligheid ’n belangrike kenmerk van Namibië se identiteit is (item 19 – 92%). Die steekproef toon ’n positiewe houding teenoor meertaligheid, want 60,6% het nie daarmee saamgestem dat Namibië ’n eentalige Engelse land moet word nie (item 17). Uit die bogenoemde kan afgelei word dat die steekproef ’n oorhoofse positiewe houding teenoor Namibiese tale in die algemeen het – dat hul saamstem dat almal onderrig moet ontvang in die taal wat hy/sy die beste ken, asook dat dit goed is om meer as een taal in Namibië te kan praat en verstaan, omdat meertaligheid ’n belangrike kenmerk van Namibië is.

Die steekproef se houding teenoor Engels, Afrikaans, Oshiwambo, Duits en Otjiherero is meer positief as teenoor die ander inheemse tale van Namibië, want item 20 (vraag oor watter taal die respondent as die belangrikste taal in Namibië beskou) se resultate het getoon dat die respondente die bogenoemde tale (in daardie volgorde) as die belangrikste tale in Namibië beskou. Laasgenoemde bevinding is heel moontlik vanweë die feit dat die meerderheid respondente Engels, Afrikaans en Duits as hul eerste tale aangedui het by item 9 (Watter taal sou jy as jou eerste taal beskou?).

6.1.2 Afrikaanssprekendes se houdings teenoor Afrikaans

Afrikaanssprekendes toon ’n positiewe houding teenoor Afrikaans, want hulle het saamgestem met al die stellings (stem saam en stem volkome saam) wat op ’n positiewehoudingsprofiel dui (items 22, 23, 24, 25, 32, 33), asook nie saamgestem met die stellings wat op ’n negatiewehoudingsprofiel dui nie (item 26).

Tabel 1. Afrikaanssprekendes se houdings teenoor Afrikaans

Item en stelling Stem (volkome) saam Neutraal Stem (glad) nie saam nie
22. Ek sal iemand wat nie Afrikaans praat nie, aanraai om eerder Afrikaans te leer as om ’n ander taal te leer (behalwe vir Engels). 63,6% 26,6% 9,8%
23. Dit is nuttig om bevoeg te wees in Afrikaans in die sakeomgewing in die Khomasstreek 77,4% 18% 5,2%
24. Dit is nuttig om Afrikaans te praat en verstaan as jy in die Khomasstreek werk soek. 68,8% 22,5% 8,7%
25. Dit is goed dat Afrikaans as ’n opsie in sommige skole in Namibië en by sommige tersiêre-onderwysinstellings soos die Universiteit van Namibië aangebied word. 96% 1,7% 2,3%
26. Afrikaans hoort nie in Namibië nie. 0,6% 2,3% 97,1%
32. Ek geniet dit om Afrikaans te hoor. 98,8% 1,2% 0%
33. As ek kinders het, wil ek graag hê dat hulle ook Afrikaans leer. 74,4% 25% 0,6%

 

6.1.3 Nie-Afrikaanssprekendes se houdings teenoor Afrikaans

Nie-Afrikaanssprekendes toon steeds ’n positiewe houding teenoor Afrikaans, want hulle het saamgestem met al die stellings (stem saam en stem volkome saam) wat op ’n positiewehoudingsprofiel dui (item 22, 23, 24, 25, 32, 33), asook nie saamgestem met die stellings wat op ’n negatiewehoudingsprofiel dui (item 26) nie. Hierdie taalgroep se houdings neig egter ook ’n bietjie na ’n neutrale houding teenoor die aanraai van ander mense om Afrikaans aan te leer. Die rede hiervoor is heel moontlik dat hulle self ook nie Afrikaans praat nie.

Tabel 2. Nie-Afrikaanssprekendes se houdings teenoor Afrikaans

Item en stelling Stem (volkome) saam Neutraal Stem (glad) nie saam nie
22. Ek sal iemand wat nie Afrikaans praat nie, aanraai om eerder Afrikaans te leer as om ’n ander taal te leer (behalwe vir Engels). 56,6% 32,1% 11,3%
23. Dit is nuttig om bevoeg te wees in Afrikaans in die sakeomgewing in die Khomasstreek. 83% 11,3% 5,7%
24. Dit is nuttig om Afrikaans te praat en verstaan as jy in die Khomasstreek werk soek. 73,6% 18,9% 7,5%
25. Dit is goed dat Afrikaans as ’n opsie in sommige skole in Namibië en by sommige tersiêre-onderwysinstellings soos die Universiteit van Namibië aangebied word. 94,3% 5,7% 0%
26. Afrikaans hoort nie in Namibië nie. 0% 3,8% 96,2%
32. Ek geniet dit om Afrikaans te hoor. 75,5% 22,6% 1,9%
33. As ek kinders het, wil ek graag hê dat hulle ook Afrikaans leer. 32,1% 66% 1,9%

 

6.1.4 Veeltalige sprekers (Afrikaans en ander tale) se houdings teenoor Afrikaans

Veeltalige sprekers (Afrikaans en ander tale) toon ’n positiewe houding teenoor Afrikaans, want hulle het saamgestem met al die stellings (stem saam en stem volkome saam) wat op ’n positiewehoudingsprofiel dui (items 22, 23, 24, 25, 32, 33), asook nie saamgestem met die stellings wat op ’n negatiewehoudingsprofiel dui nie (item 26).

Tabel 3. Veeltalige sprekers (Afrikaans en ander tale) se houdings teenoor Afrikaans

Item en stelling Stem (volkome) saam Neutraal Stem (glad) nie saam nie
22. Ek sal iemand wat nie Afrikaans praat nie, aanraai om eerder Afrikaans te leer as om ’n ander taal te leer (behalwe vir Engels). 60,4% 27,1% 12,5%
23. Dit is nuttig om bevoeg te wees in Afrikaans in die sakeomgewing in die Khomasstreek. 83,3% 12,5% 4,2%
24. Dit is nuttig om Afrikaans te praat en verstaan as jy in die Khomasstreek werk soek. 83% 14,9% 2,1%
25. Dit is goed dat Afrikaans as ’n opsie in sommige skole in Namibië en by sommige tersiêre-onderwysinstellings soos die Universiteit van Namibië aangebied word. 100% 0% 0%
26. Afrikaans hoort nie in Namibië nie. 0% 0% 100%
32. Ek geniet dit om Afrikaans te hoor. 89,4% 10,6% 0%
33. As ek kinders het, wil ek graag hê dat hulle ook Afrikaans leer. 59,6% 40,4% 0%

 

6.1.5 Algemene houdings teenoor Afrikaans

Uit die drie verskillende groepe – Afrikaanssprekendes, nie-Afrikaanssprekendes en veeltalige sprekers (Afrikaans en ander tale) blyk dit dat die Khomasstreek-inwoners oor die algemeen ’n positiewe houding teenoor Afrikaans het en dat hul graag Afrikaans wil bevorder en ander mense – asook hul eie toekomstige kinders – (sal) aanraai om Afrikaans te leer. Dit is net by die nie-Afrikaanssprekende groep waar hul meer neutraal voel oor die stelling dat hul eendag vir hul kinders Afrikaans wil leer, maar verder was hul houdings ook meer positief as neutraal of negatief.

In die inleiding van hierdie studie is daar aangedui dat hierdie studie moontlik ’n aanduiding kan gee van die status van Afrikaans binne die breër konteks van nasionale eenheid en versoening. Die feit dat al drie die groepe hoofsaaklik positiewe houdings teenoor Afrikaans het, dui daarop dat daar volgens die steekproef tog ’n mate van nasionale eenheid en versoening tussen Khomasstreek-inwoners is – dertig jaar ná onafhanklikwording.

Verder het die inleiding die vraag gestel of die relatief negatiewe vooronafhanklikheidshoudings teenoor Afrikaans en ander inheemse tale ’n positiewe verandering in die toekoms kan ondergaan, en of die welwillende houding teenoor Engels in ’n mate sal afneem vanaf verheerliking na ’n meer neutrale houding (Maho 1998:191). Uit die resultate kan daar gesien word dat die respondente hoofsaaklik ’n positiewe houding teenoor Afrikaans het, dus het daar ’n verandering plaasgevind vanaf die negatiewe vooronafhanklikheidshoudings teenoor Afrikaans waarvan Maho (1998:191) geskryf het.

6.2 Persepsies rakende Afrikaans in Namibië (spesifiek in die Khomasstreek)

In hierdie afdeling gaan daar bespreek word watter persepsies daar oor Afrikaans bestaan onder die steekproef van 275 respondente, asook onder die drie verskillende groepe: Afrikaanssprekendes (174 respondente), nie-Afrikaanssprekendes (53 respondente) en veeltalige sprekers (Afrikaans en ander tale) (48 respondente).

6.2.1 Afrikaans as lingua franca in die Khomasstreek

Respondente se persepsie rondom Namibië se lingua franca kan uit item 27 afgelei word: Afrikaans is ’n taal wat in die Khomasstreek gebruik word as ’n gemeenskaplike taal tussen sprekers wie se moedertale van mekaar verskil (d.w.s. as ’n lingua franca). 66 respondente het volkome saamgestem, 134 respondente het saamgestem, terwyl 38 respondente neutraal voel oor die stelling. 29 respondente het nie saamgestem nie en drie respondente stem glad nie saam nie. Daar was 5 uit die 275 respondente wat nie hierdie item beantwoord het nie. Vanweë die feit dat 200 respondente saamgestem het dat Afrikaans ’n lingua franca in Namibië is, en 32 respondente nie daarmee saamstem nie, kan daar afgelei word dat daar ’n persepsie onder die respondente bestaan dat Afrikaans – ná dertig jaar van onafhanklikwording – steeds die lingua franca in die Khomasstreek van Namibië is.

Onder die Afrikaanssprekendes is 74,4% van mening dat Afrikaans die lingua franca in die Khomasstreek is, terwyl 71,1% nie-Afrikaanssprekendes ook die persepsie het dat Afrikaans die lingua franca in die Khomasstreek is. By die veeltalige sprekers (Afrikaans en ander tale) is dit duidelik dat 75,6% die persepsie het dat Afrikaans steeds die lingua franca in die Khomasstreek is.

In 1997 skryf Beuke (1997:5) in ’n artikel oor die kontak en konflik van Afrikaans in Namibië dat Afrikaans op daardie stadium nog die lingua franca in Namibië was, maar dat hierdie funksie tien jaar later, dit wil sê teen 2007, waarskynlik deur Engels vervul sou word. Groenewald (2010:99) meld egter dat Afrikaans twintig jaar ná onafhanklikwording steeds die status van lingua franca in Namibië behou, ten spyte van ’n veranderde politieke klimaat. Uit hierdie studie, wat in 2020 gedoen is, is dit duidelik dat minstens die Namibiese inwoners in die Khomasstreek die persepsie koester dat Afrikaans – selfs dertig jaar ná onafhanklikwording – steeds die lingua franca in die Khomasstreek is.

6.2.2 Afrikaans as taal van die koloniale onderdrukker

Volgens die navorsing en resultate blyk dit dat die meeste van die respondente die persepsie het dat Afrikaans nie die taal van die koloniale onderdrukker is nie (item 28). Die volgende persentasie respondente het nie (en glad nie) saamgestem dat Afrikaans die taal van die koloniale onderdrukker is nie:

  • Algehele steekproef: 71,5%
  • Afrikaanssprekendes: 80,3%
  • Nie-Afrikaanssprekendes: 46,2%
  • Veeltalige sprekers (Afrikaans en ander tale): 67,4%.

By die nie-Afrikaanssprekende groep het 40% aangedui dat hulle neutraal voel teenoor die stelling, wat byna net soveel is soos die 46,2% van daardie bevolking wat nie saamgestem het nie. Dus kan daar afgelei word dat dit hoofsaaklik die Afrikaanssprekendes is wat die persepsie het dat Afrikaans nie die taal van die koloniale onderdrukker is nie.

6.2.3 Afrikaans as ’n inheemse taal in Namibië

Item 29 het die respondente se persepsie oor Afrikaans as ’n inheemse taal in Namibië getoets en 81,1% van die steekproef het daarmee saamgestem. 81,3% Afrikaanssprekendes, 79,2% nie-Afrikaanssprekendes en 83% veeltalige sprekers (Afrikaans en ander tale) het met die stelling saamgestem. Dus is die persepsie van die Khomasstreek-inwoners dat Afrikaans ’n inheemse taal is (’n taal wat al vir baie generasies in die spesifieke area gevestig is).

6.2.4 Afrikaans dien as ’n verbinding tussen mense van verskillende kultuurgroepe

Volgens die resultate stem 76,1% respondente in die steekproef saam dat Afrikaans mense van verskillende kultuurgroepe verbind (item 30). Die groep wat hierdie persepsie die sterkste oordra, is Afrikaanssprekendes met 76,9% teenoor veeltalige sprekers (Afrikaans en ander tale) met 76,6% en nie-Afrikaanssprekendes met 73%.

6.2.5 Afrikaans vorm deel van die nasionale erfenis van Namibië

’n Volgende persepsie wat die navorsing opgelewer het, is dat Afrikaans deel vorm van Namibië se nasionale erfenis (item 31). Laasgenoemde is die persepsie van 91,1% van die steekproef.

  • Afrikaanssprekendes: 94,8%
  • Nie-Afrikaanssprekendes: 82,7%
  • Veeltalige sprekers (Afrikaans en ander tale): 91,5%.

6.2.6 Afrikaans se uitsterwing

Item 34 het dit gestel dat Afrikaans oor 30 jaar gaan uitsterf. Die steekproef dui aan dat 79,8% nie met hierdie stelling saamstem nie. Die meerderheid Afrikaanssprekendes stem ook nie daarmee saam nie – 82%. Die nie-Afrikaanssprekendes stem hoofsaaklik ook nie saam nie (66%), terwyl 22,6% van hulle neutraal reageer op die stelling. 87% van die veeltalige sprekers (Afrikaans en ander tale) stem ook nie saam dat Afrikaans oor 30 jaar sal uitsterf nie. Uit die bogenoemde statistiek kan daar afgelei word dat die persepsie onder die respondente bestaan dat Afrikaans nie binne die volgende 30 jaar sal uitsterf nie – net soos wat dit ook bly oorleef en op sekere gebiede selfs floreer het die afgelope 30 jaar ná onafhanklikwording.

6.2.7 Die ontstaan van Afrikaans in Namibië

Item 35 handel oor die ontstaan van Afrikaans in Namibië, met verskeie opsies waaruit die respondente kon kies. Hier onder verskyn die opsies, sowel as die aantal respondente van die steekproef wat die opsies gekies het.

  • Afrikaans is aanvanklik deur die Suid-Afrikaanse kolonialiste tydens die koloniale tydperk na Namibië gebring: 90 respondente (33%).
  • Afrikaans is aanvanklik deur die Oorlam- en Bastergemeenskappe vóór die koloniale tydperk na Namibië gebring: 88 respondente (32,3%).
  • Afrikaans het reeds vóór die koloniale tydperk in Namibië ontstaan: 9 respondente (3,3%)
  • Afrikaans is aanvanklik deur die Duitse koloniste tydens die koloniale tydperk na Namibië gebring: 8 respondente (2,9%).
  • Afrikaans is aanvanklik deur die Bantu-gemeenskappe voor die koloniale tydperk na Namibië gebring: 2 respondente (0,7%).
  • Afrikaans is aanvanklik deur die Khoi/San-gemeenskappe voor die koloniale tydperk na Namibië gebring: 8 respondente (2,9%).
  • Ek weet nie: 68 respondente (24,9%).
  • Twee respondente het nie op die item gereageer nie.

Uit die navorsing blyk dit dat die meerderheid respondente in die steekproef nie werklik weet hoe Afrikaans in Namibië ontstaan het nie. 33% het die wanpersepsie dat Afrikaans aanvanklik deur die Suid-Afrikaanse koloniste tydens die koloniale tydperk na Namibië gebring is, terwyl 24,9% die opsie gekies het dat hul “nie weet nie”. Net 32,3% van die respondente se persepsie het met die korrekte antwoord gekorreleer: Afrikaans is aanvanklik deur die Oorlam- en Bastergemeenskappe vóór die koloniale tydperk na Namibië gebring. Die res van die steekproef het ook almal die verkeerde opsies gekies.

’n Verdere interessante verskynsel wat die navorsing oplewer, is dat dit hoofsaaklik die Afrikaanssprekendes is wat onder die wanindruk is dat Afrikaans aanvanklik deur die Suid-Afrikaanse koloniste tydens die koloniale tydperk na Namibië gebring is. 37,6% van die Afrikaanssprekendes het die opsie van die Suid-Afrikaanse koloniste gekies, 31,9% van die veeltalige sprekers (Afrikaans en ander tale) het dieselfde opsie gekies, terwyl slegs 18,9% van die nie-Afrikaanssprekendes hierdie opsie gekies het.

Die navorsing se resultate toon ook dat die nie-Afrikaanssprekendes die groep is wat die korrekte opsie van die Oorlam- en Bastergemeenskappe die meeste gekies het – 56,6%. Onder die Afrikaanssprekendes was daar net 25,5% wat weet hoe Afrikaans werklik in Namibië ontstaan het, terwyl 29,8% van die veeltalige sprekers (Afrikaans en ander tale) weet wat die ware toedrag van sake is. Dit is dalk vanweë die feit dat daar nie eintlik in die Namibiese skole onderrig verskaf word oor die ontstaan van Afrikaans in Namibië nie. Voor onafhanklikwording is Suid-Afrikaanse sillabusse gevolg en ná onafhanklikwording is daar nie so baie fokus geplaas op die Namibiese ontstaan en geskiedenis van Afrikaans nie. Die meerderheid Namibiese privaat skole volg vandag nog internasionale sillabusse wat meer gerig is op ’n Suid-Afrikaanse en verdere internasionale konteks (Onafhanklike Eksamineringsraad – IEB).

Dus kan daar afgelei word dat dit die Afrikaanssprekende respondente is wat self die minste weet van hul taal se ontstaan en geskiedenis, en gevolglik kan hul wanpersepsies ook tot ander Afrikaans- en andertaalsprekers se wanpersepsies oor die Afrikaanse taal lei.

6.2.8 Die gereelde hoor van Afrikaans

By item 36 het 97,8% van die steekproef aangedui dat hulle daagliks of amper elke dag Afrikaans hoor. Die Afrikaanssprekendes het aangedui dat hul almal (100%) daagliks of amper elke dag Afrikaans hoor. Selfs 88,7% van die nie-Afrikaanssprekendes is van mening dat hul daagliks of amper elke dag Afrikaans hoor. Al die veeltalige sprekers (Afrikaans en ander tale – 100%) het aangedui dat hul daagliks of amper elke dag Afrikaans hoor. Dus ontstaan die persepsie dat Namibiese inwoners byna daagliks Afrikaans in die Khomasstreek hoor.

 

7. Gevolgtrekkings

7.1 Houdings teenoor Namibiese tale in die algemeen

Die oorgrote meerderheid van die steekproef het ’n positiewe houding teenoor Namibiese tale in die algemeen, want hul stem saam dat almal onderrig moet ontvang in die taal wat hulle die beste ken, asook dat dit goed is om meer as een taal in Namibië te kan praat en verstaan, omdat meertaligheid ’n belangrike kenmerk van Namibië is. Die steekproef se houding teenoor Engels, Afrikaans, Oshiwambo, Duits en Otjiherero is ook meer positief as teenoor die ander inheemse tale van Namibië, want die genoemde tale (in daardie volgorde) is volgens die samestelling van die steekproef as die belangrikste tale in Namibië beskou.

7.2 Afrikaans as onderrigtaal

Die resultate van die drie verskillende groepe – Afrikaanssprekendes, nie-Afrikaans-sprekendes en veeltalige sprekers (Afrikaans en ander tale) – dui daarop dat Khomas-inwoners oor die algemeen ’n positiewe houding teenoor Afrikaans het en dat hul graag Afrikaans wil bevorder en ander mense – ook hul eie toekomstige kinders – aanraai om Afrikaans te leer. Daar was egter ’n uitsondering by die nie-Afrikaanssprekende groep waar hul meer neutraal voel oor die stelling dat hul eendag vir hul kinders Afrikaans wil leer, maar verder was hul houdings ook meer positief as neutraal of negatief. Die rede hoekom hulle meer neutraal voel oor die stelling dat hulle eendag vir hul kinders Afrikaans wil leer, is heel moontlik dat hulle self nie Afrikaans praat nie.

7.3 Afrikaans as eenheids- en versoeningstaal

In die inleiding is daar aangedui dat hierdie studie moontlik ’n aanduiding kan gee van die status van Afrikaans binne die breër konteks van nasionale eenheid en versoening. Uit die drie groepe se positiewe houdings teenoor Afrikaans kan daar afgelei word dat daar wel – dertig jaar ná onafhanklikwording – ’n mate van nasionale eenheid en versoening tussen Khomasstreek-inwoners bestaan indien die steekproef as verteenwoordigend aanvaar kan word, wat nie die geval is nie. Daar is ook ’n persepsie wat aansluit by laasgenoemde: Die oorgrote meerderheid van die steekproef (91,1%) is van mening dat Afrikaans deel vorm van Namibië se nasionale erfenis.

7.4 Is Afrikaans steeds die lingua franca in Namibië?

In die artikel is daarvan melding gemaak dat die response op sekere items in die vraelys moontlik ’n idee sou kon gee of Afrikaans ­­ná dertig jaar van onafhanklikheid steeds die lingua franca in Namibië is, en of daardie funksie in ’n groter mate deur Engels vervul word. In Harmse (2022) se studie, waarvan die navorsing in 2020 gedoen is, is dit duidelik dat die respondente in die Khomasstreek steeds die persepsie koester dat Afrikaans – selfs dertig jaar ná onafhanklikwording – steeds die lingua franca in die Khomasstreek is.

7.5 Wanpersepsies met betrekking tot Afrikaans

’n Verdere interessante verskynsel wat die navorsing opgelewer het, is dat dit hoofsaaklik die Afrikaanssprekendes is wat onder die wanindruk verkeer dat Afrikaans aanvanklik deur die Suid-Afrikaanse koloniste tydens die koloniale tydperk na Namibië gebring is. Die navorsing se resultate toon ook dat die nie-Afrikaanssprekende groep meestal die korrekte opsie gekies het, naamlik: Afrikaans is aanvanklik deur die Oorlam- en Bastergemeenskappe vóór die koloniale tydperk na Namibië gebring. Dus kan daar tot die gevolgtrekking gekom word dat dit die Afrikaanssprekendes is wat self die minste van hul taal se ontstaan en geskiedenis in Namibië weet, en die moontlikheid bestaan dat hul wanpersepsies ook tot ander Afrikaans- en andertaalsprekers se wanpersepsies van die Afrikaanse taal kan lei en dat dit ook moontlik toekomstige houdings en persepsies teenoor Afrikaans in Namibië kan beïnvloed.

7.6 Hoër onderwys en werksgeleenthede

Volgens Fishman en Rubal-Lopez (1992) kan houdings teenoor taalvariëteite ’n invloed hê op die mate waarin sekere groepe (soos sprekers van streeksdialekte of minderheidstale) aan hoër onderwys deelneem of werksgeleenthede beïnvloed.

As ons na item 14 kyk: “As jy kon kies, in watter taal sou jy verkies om onderrig te word OF waarin jou kinders onderrig moet word (wanneer jy skool, universiteit, ens. bywoon)”, is die algehele positiewe houding van die respondente teenoor Afrikaans weer eens sigbaar, aangesien Afrikaans en Engels basies gelykmatig gekies is by hierdie item. Die positiewe houding teenoor Afrikaans beïnvloed dus hul deelname aan hoër onderwys in so ’n mate dat hul graag in Afrikaans sal wil skoolgaan of studeer en dat Afrikaans hier langsaan Engels in die gekose posisie staan en gevolglik nie aan die kortste ent trek soos wat minderheidstale gewoonlik doen nie.

Die resultate van item 23, “Dit is nuttig om bevoeg te wees in Afrikaans in die sakeomgewing in die Khomasstreek” en item 24, “Dit is nuttig om Afrikaans te praat en verstaan as jy in die Khomasstreek werk soek”, dui ook daarop dat die meerderheid respondente met die stellings saamstem. Gevolglik kan daar afgelei word dat hul positiewe houdings teenoor Afrikaans ook aansluit by, en dalk selfs beïnvloed word deur, die sterk teenwoordigheid van Afrikaans in die sakeomgewing en wat werksgeleenthede betref.

7.7 Areas van taalhoudings

Daar kan dus nou tot ’n gevolgtrekking gekom word dat hierdie studie se resultate beslis die volgende hoofareas van taalhoudings, soos uiteengesit in Baker (1992:29–30), aangespreek het: houding teenoor ’n spesifieke minderheidstaal; houding teenoor die aanleer van ’n nuwe taal; houding teenoor die gebruike van ’n spesifieke taal; houding teenoor taalvoorkeur.

 

8. Aanbevelings

Hierdie studie het gefokus op die persepsies en taalhoudings van Khomasstreek-inwoners ten opsigte van die Afrikaanse taal as ’n konstruk. ’n Tekortkoming wat hierdie studie het, is dat die steekproef nie groot genoeg was om die Khomasstreek as ’n geheel te verteenwoordig nie. Daarom kan ek verdere of toekomstige studies aanbeveel waarin ’n groter gedeelte van die Khomasstreek betrek word, of dalk selfs al die streke van Namibië, om ’n duideliker idee te kry van die houdings teenoor en persepsies van Afrikaans in Namibië in sy geheel. In die geval van so ’n opvolgstudie sou dit dalk goed wees om ’n ander metode as die gerieflikheidsteekproef te gebruik om sodoende terugvoer vanaf ’n definitiewe steekproefgrootte te verkry. Die data wat hierdie studie gegenereer het, kan ook verder benut word; verskillende persepsies/houdings kan byvoorbeeld gemeet word aan die hand van die vlak van opvoeding, geslag, ouderdom, ens. Dit sou ook goed wees om soortgelyke studies te doen waarin houdings en persepsies rakende ander tale in Namibië getoets word. Verder sou dit moontlik ook goed wees om leerders in die skole te onderrig oor die ontstaan van Afrikaans in Namibië – nie noodwendig deur middel van geskiedenislesse nie, maar byvoorbeeld deur begripstekste of literatuur wat oor die ontstaan van Afrikaans in Namibië handel. Verdere studies oor houdings teenoor Afrikaans – of ander Namibiese tale – sal heel moontlik ook baie interessante bevindinge oplewer.

 

Bibliografie

Baker, C. 1992. Attitudes and language. Multilingual Matters, 83. https://www.researchgate.net/publication/234670242_Attitudes_and_ Language_Multilingual_Matters_83 (13 Februarie 2024 geraadpleeg).

Belmihoub, K. 2018. Language attitudes in Algeria. Language Problems & Language Planning, 42(2):144–72. DOI: 10.1075/lplp.00017.bel.

Beuke, C. 1997. Afrikaans in Namibië. In De Geest (red.) 1997.

Bohner, G. en M. Wanke. 2002. Attitudes and attitude change. Hove: Psychology Press.

De Geest, W. (red.). 1997. Recente studies in de Contactlinguïstiek. Bonn: Ferd. Dümmlers Verlag.

Dragojevic, M., F. Fasoli, J. Cramer en T. Rakić. 2021. Toward a century of language attitudes research: Looking back and moving forward. Journal of Language and Social Psychology, 40(1):60–79.

Du Plessis, S. 2019. Wat is persepsie? Edublox. https://www.thereadingclinic.co.za/persepsie.htm (13 Februarie 2024 geraadpleeg).

Eagly, A. en S. Chaiken. 1993. The psychology of attitudes. Orlando: Harcourt Brace.

Erwin, P. 2001. Attitudes and persuasion. Hove: Psychology Press.

Fishman, J.A. en A. Rubal-Lopez. 1992. Cross-policy analysis of factors affecting English language spread: Predicting three criteria of spread from a large pool of independent variables. World Englishes, 11(2):309–29.

Friedrich, P.M. 2000. English in Brazil: functions and attitudes. World Englishes, 19(2):215–3. DOI: 10.1111/1467–971X.00170

Garrett, P., N. Coupland en A. Williams. 2003. Investigating language attitudes. Cardiff: University of Wales Press.

Griffin, E. 2012. A first look at communication theory. New York, NY: McGraw-Hill.

Groenewald, G. 2010. Afrikaans as lingua franca in Namibië, ca. 1800–1920. LitNet Akademies, 7(3):65–102.

Harmse, N. 2022. ’n Verkenning en vergelyking van houdings en persepsies rakende Afrikaans in die Khomasstreek van Namibië ná drie dekades van onafhanklikheid. MA-verhandeling, Universiteit van Namibië. Windhoek, Namibië: Universiteit van Namibië Biblioteek.

Henerson, M.E., L.L. Morris en C.T. Fitz-Gibbon. 1987. How to measure attitudes. 2de uitgawe. Newbury Park: Sage.

Hovland, C.I. en M. Sherif. 1980. Social judgment: assimilation and contrast effects in communication and attitude change. Westport: Greenwood.

Maartens, C.E. 1997. Houding teenoor Afrikaans, ’n meningsopname onder Afrikaanse tieners in KwaZulu-Natalse skole. MA-verhandeling, Universiteit van Natal. https://researchspace.ukzn.ac.za/items/082a0b53-7e67-4cc6-a812-a1e5eed09846 (13 Februarie 2024 geraadpleeg).

Maho, J.F. 1998. Few people, many tongues: the languages of Namibia. Windhoek, Namibië: Gamsberg Macmillan.

McKenzie, R.M. 2008. Social factors and non-native attitudes towards varieties of spoken English: A Japanese case study. International Journal of Applied Linguistics, 18(1):63–88. DOI: 10.1111/j.1473–4192.2008.00179.x

—. 2010. The social psychology of English as a global language: attitudes, awareness and identity in the Japanese context. Londen: Springer.

Oppenheim, A. 1992. Questionnaire design, interviewing and attitude measurement. Londen: Continuum.

Parker, M. 2015. Patterns of use of and attitudes towards the Afrikaans language by South African expatriates: a sociolinguistic perspective. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch. https://scholar.sun.ac.za/bitstream/handle/10019.1/97942/parker_patterns_2015.pdf?sequence=2&isAllowed=y (13 Februarie 2024 geraadpleeg).

Perloff, R. 2003. The dynamics of persuasion. 2de uitgawe. Londen: Lawrence Erlbaum.

Perry, F.L. 2005. Research in applied linguistics. Londen: Lawrence Erlbaum.

Pienaar-Louw, A.M. 1997. Moedertale en die Namibiese skoolverlater: ’n taalverhoudingstudie – met die fokus op Afrikaanssprekendes. MA-verhandeling, Universiteit van Namibië. Windhoek, Namibië: Universiteit van Namibië Biblioteek.

Schlettwein, S. 2015. Multilingual students’ attitudes towards their own and other languages at the University of Stellenbosch and the University of the Western Cape. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch. https://scholar.sun.ac.za/server/api/core/bitstreams/b57f143e-99bc-4ccd-ba63-d6da15e4228d/content (13 Februarie 2024 geraadpleeg).

Schuman, H. en S. Presser. 1996. Questions and answers in attitude surveys. Londen: Sage.

Seals, C.A. en S. Shah (reds.). 2017. Heritage language policies around the world. Abingdon: Routledge.

Shah, S. en M. Zappen-Thomson. 2017. German language policy in Namibia. In Seals en Shah (reds.) 2017.

SIL International. 2018. Language attitudes. Language assessment. https://www.sil.org/language-assessment/language-attitudes (13 Februarie 2024 geraadpleeg).

Stals, E.L.P. 2008. Wie is jy? ’n Bundel historiese opstelle oor die Afrikaner in die voormalige Suidwes-Afrika. Windhoek: Macmillan Namibia.

Stals, E.L.P. en F.A. Ponelis. 2001. Só het Afrikaans na Namibië gekom. Windhoek: Gamsberg Macmillan.

Stell, G. en G. Groenewald. 2016. ’n Perseptuele verslag van Afrikaans in Namibië: Tussen lingua franca en sosiaal-eksklusiewe taal. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(4-2):1128–48.

 

Eindnotas

1 Die artikel is gebaseer op my meestersstudie met dieselfde titel.

2 Hiermee wil ek graag erkenning gee en dank betoon aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK), wat ’n meestersbeurs aan my toegeken het.

3 ’n Taal wat deur die minderheid van ’n bevolking van ’n sekere gebied gepraat word; in hierdie geval Afrikaans in Namibië.

 

  • Die agtergrondfoto van die Khomas-streek in Namibië op hierdie artikel se fokusprent is geskep deur Bernd Dittrich en is verkry op Unsplash. Op die voorgrond is ’n gedeelte van ’n bladsy uit die 5de uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (Odendal, F.F. en Gouws, R.H. 2009).

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post ’n Verkenning en vergelyking van houdings en persepsies rakende Afrikaans in die Khomasstreek van Namibië ná drie dekades van onafhanklikheid first appeared on LitNet.

The post ’n Verkenning en vergelyking van houdings en persepsies rakende Afrikaans in die Khomasstreek van Namibië ná drie dekades van onafhanklikheid appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 796

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>