Quantcast
Channel: LitNet Akademies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 795

Khôra en kaar: ’n bespreking van khôra en interpretasie van Marlene van Niekerk se gedig “Woordverklaring”

$
0
0

Khôra en kaar: ’n bespreking van khôra en interpretasie van Marlene van Niekerk se gedig “Woordverklaring”

Elizabeth van der Berg, onafhanklike navorser

LitNet Akademies Jaargang 21(1)
ISSN 1995-5928
https://doi.org/10.56273/1995-5928/2024/j21n1b2

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Wat aanleiding gegee het tot hierdie artikel, is die basiese semantiese ooreenkoms tussen die woord kaar soos dit uit Marlene van Niekerk (2013:20) se gedig “Woordverklaring” blyk, en die platoniese begrip khôra, synde “houer”. As komplekse filosofiese begrip, word khôra egter ook met ’n hele spektrum ander betekenisse verbind.

Die doel van die artikel is om as teoretiese agtergrond die aard van khôra met sy verskillende fasette diepgaande te ondersoek. Dit word gedoen vanuit die perspektiewe van neo-Platoniste, christen-mistici, psigoanaliste, postmoderne filosowe, asook ’n christen-filosoof. “Woordverklaring” word dan in die lig van hierdie bevindings poststrukturalisties geïnterpreteer deur kaar metafories as khôra te beskou.

Eerstens word die bundel Kaar en die resepsie daarvan bespreek. Daarna word die verklarings van die Dietse woord kaar soos in die gedig uiteengesit, asook definisies daarvan in die Nederlandse Encyclopedie (2023) bekyk. Hieruit blyk dit dat kaar basies “houer” beteken. In Plato (2008:40, 43) se Timaeus (49a en 51a) word khôra eweneens as “houer” (“receptacle”) gedefinieer.

Dit lei tot ’n breedvoerige bespreking van die komplekse filosofiese khôra wat die spesifieke eienskappe van dié begrip as houer aantoon, asook khôra as baarmoeder, as beweging, en ook die apofatiese aspekte daarvan. Deur khôra met sy verskeidenheid waardes soos aangetoon as metafoor vir kaar te beskou, word die gedig daarna ontleed en geïnterpreteer. Die slotsom wat bereik word, is dat so ’n lesing tot ’n verrykte betekenis, wat mistieke elemente insluit, lei.

Trefwoorde: John Caputo; Jacques Derrida; filosofie; Kaar; kaar; khôra; Julia Kristeva; mistieke; Plato; poësie; poststrukturalisme; Marlene van Niekerk

 

Abstract

Khôra and kaar: a discussion of khôra and an interpretation of Marlene van Niekerk’s poem “Woordverklaring”

What gave rise to this article is the semantic correspondence, namely “container”, between the word “kaar” in Marlene van Niekerk’s poem “Woordverklaring” (from her anthology Kaar), and the Platonic concept khôra. As an involved philosophical concept, khôra is also associated with a whole spectrum of other meanings.

The objective of this article is to investigate the nature of khôra as theoretical framework for the interpretation of the poem. The diverse facets of this complex concept are examined from the perspectives of Neoplatonists, Christian mystics, psychoanalysts, postmodern philosophers, as well as a Christian philosopher. In the light of these findings the poem is subsequently analysed poststructurally by a metaphorical interpretation of kaar as khôra.

The anthology Kaar and its reception is firstly discussed. It appeared in 2013, receiving excellent reviews. Crous (2013) describes Van Niekerk as one of few Afrikaans poets who focuses on the etymology of a word with all its Germanic roots. Van Vuuren (2013:34) regards Kaar as a postmodern anthology, and Bezuidenhout (2013) refers to Van Niekerk’s gift of seeing one matter in terms of another, and of even letting a whole poem function as an expanded metaphor. “Woordverklaring” is an example of such a poem. Based on the link between kaar and khôra, “Woordverklaring” lends itself to a poststructuralist approach from which the poem is analysed and interpreted.

In the first stanza of “Woordverklaring” (Van Niekerk 2013:20) the poet explains the meaning of kaar – also the title of the anthology – and calls it a beautiful old Dutch word. Kaar is described as a container (for honey, fish, ice water), a boat, a beehive, a niche above a glacier crevasse, a basin-shaped valley, a funnel (for wheat), and the mouth of St Ambrose. These meanings basically correspond with those of this headword in the Nederlandse Encyclopedie (2023).

Khôra is derived from the Greek word χώρα, which means “the space where something is, or any generic place” (Liddell and Scott 1940). Similar to kaar, khôra is defined as “receptacle” in Plato’s Timaeus (respectively 49a and 51a): “receptacle [...] of all creation”; also, “an invisible, formless receptacle of everything, which is in some highly obscure fashion linked with the intelligible realm” (Plato 2008:40, 43).

However, this philosophical concept is far more complex and fascinating than the simple meaning of “container” and khôra is consequently examined in detail. This examination brings to light four main aspects of khôra: as container, as womb, as moving, as apophatic.

It is identified as a container without being or character, but which offers the potential for creation and meaning, and a place which is already there. From a Derridean perspective, it is the place of deconstruction, the aporia, where meaning is elusive and is endlessly deferred.

Kristeva, inter alia, describes khôra as womb and matrix, but without nurturance or care because it is totally without character. In a Christian context, the Virgin Mary is seen as die “bearer of God”, “replication of the khora in the body” (Sallis quoted in Isar 2009b:40). In the Kariye Müzesi (Khôra monastery) outside Istanbul, Mary is iconically portrayed as khôra in the Byzantine style, with Christ in an egg-shaped container which represents her womb. Mary is the Χώρα του Αχωρήτου, or the “container of the uncontainable”. As in the Platonic understanding of khôra, Mary receives the divine person, Christ, into her body without appropriating Him for herself. This points to her role as the instrument of incarnation; according to Platonic views of khôra, as mediator between die human and the divine, the point of contact between all dualisms. She is “the hymen that hyphenates them”, and becomes a paradox, an antinome, khôra, “the container of the uncontainable” (Manoussakis 2002:99).

Kristeva maintains that the maternal body will turn into an abject; and according to her, abjection is rooted in our sense of identity. Kearney (2003:195) agrees: “For a human being to become an ego-self it must ‘abject’ this maternal matrix, henceforth considered off limits and taboo.”

Khôra is also associated with movement. The Greek word chôra or khôra (χώρα) is related to the meaning of the verb chôréô that has two meanings: to withdraw, making space for another while inscribing the space; also, to move forwards in order to provide space. The Greek word chorós conveys the idea of collective coordinated movement, as dance, or a choir, like choròs ástrôn (dance of the stars), or choròs melitôn (dance of the bees) (Isar 2004:60).

A paradoxical movement is involved, a breakaway from the maternal in the khôra space; with, as well as against khôra, a simultaneous dependency and pushing away. Consequently, “khora is no more than the place where the subject is both generated and negated, the place where his unity succumbs before the process of charges and stases that produce him” (Kearney 2003:196).

Lastly the apophatic aspect is discussed. Apophaticism, characteristic of mystical texts, resonates with the idea of Mary as “container of the uncontainable”, or khôra as container of the uncontainable God. God is not containable in words, metaphors or images. According to Caputo (1997a:92) khôra can be likened to the unknown God, the deus absconditus, the mysterious origin beyond origin. As one becomes part of the transcendent (the unknown God) as well as the immanent (the kenotic khôra), one finds oneself in the gap in-between, the tríton génos.

As a result of the perception that the divine cannot be formulated linguistically, mystics follow the via negativa and describe God by means of negation and by statements on what He is not, rather than what He is. Dionysius, Caputo, Derrida and Rumi are quoted in this regard. It is in the desert of khôra, or silence, that God is experienced – where silence acknowledges the absence of meaning in human language.

Caputo maintains: “khôra is the felix culpa of a passion of the impossible, the happy fault of a poetics of the possible, the heartless heart of an ethical and religious escatology. Khora is the devil that justice demands we give his due” (in Dooley 2003:127).

Finally, by interpreting kaar as khôra with all of its values as discussed, “Woordverklaring” is analysed. The conclusion reached, is that such a reading leads to an enriched meaning which includes mystical aspects. Furthermore, the entire poem can be regarded as a kaar with the potential for signification.

Keywords: John Caputo; Jacques Derrida; Kaar; kaar; khôra; Julia Kristeva; mysticism; philosophy; Plato; poetry; poststructuralism; Marlene van Niekerk

 

1. Inleiding

Wanneer Marlene van Niekerk (2013:20) se gedig “Woordverklaring” uit haar bundel Kaar die eerste keer gelees word, roep die woord kaar assosiasies met die platoniese begrip khôra op. Verdere navorsing bevestig ’n interessante semantiese verband tussen kaar en khôra, naamlik dat beide basies ’n “houer” van die een of ander aard is.

Die artikel het ten doel om in die lig van die verskillende aspekte van die platoniese begrip khôra, die gedig poststrukturalisties te interpreteer.

Die bundel Kaar en die resepsie daarvan word eerstens bespreek. Dan volg definisies van kaar en khôra, wat ’n semantiese ooreenkoms bevestig. Dit lei tot ’n diepgaande ondersoek van khôra vanuit perspektiewe van talle kundiges wat die wye spektrum fasette daarvan aan die lig bring. Laastens, in terme van khôra as metafoor vir kaar, word die gedig poststrukturalisties ontleed en geïnterpreteer.

Die slotsom wat bereik word, is dat so ’n lesing tot ’n verrykte betekenis, wat ook mistieke elemente insluit, lei.

 

2. Kaar

Marlene van Niekerk se digbundel Kaar, waarin “Woordverklaring” opgeneem is, verskyn in 2013 en word deur Crous (2013) as die “poëtiese hoogtepunt” van die jaar beskryf. Snyman (2013) noem dit “’n merkwaardige bundel”. Van Vuuren (2013) beskou dit as “drastiese vernuwing en verskuiwing aan die grense van poësie soos seker laas met Breytenbach se Die ysterkoei moet sweet (1964) of Van Wyk Louw se Tristia (1962) hier te lande beleef is”.

Van Vuuren (2013) voer verder aan dat Van Niekerk in die gedigte haar woordkennis vier en “delwe en grawe deur Middel- en Oud-Nederlands, Angel-Saksies, Noors, tot by Urdu en Sanskrit”. Crous (2013) meen dat Van Niekerk saam met groot Afrikaanse digterstemme soos T.T. Cloete en Breyten Breytenbach een van die min digters is wat “so op die etimologie van ’n woord met al sy Germaanse wortels kan ingaan”. Die bundel Kaar bevat volgens hom poësie waarmee Van Niekerk weerstand bied teen die krimping van die Afrikaanse woordeskat, en die kwyning van mense se aandagspanne en nuuskierigheid. Snyman (2013) noem Kaar “’n klein ensiklopedie van woord en digkuns” en voer aan: “Die woorde ‘dans’ hulle dikwels vry van verstarde betekenisse; ook die gedigte dans hulle gereeld vry van konvensie”. In haar resensie, beskryf Bezuidenhout (2013) die bundel Kaar:

[...] as ’n eksuberante verslag van onderdompeling in die groot tumult wat ons die Lewe noem; ’n verlustiging in die roes van menslike ervaring, maar ook in die taal self, en daarmee saam ’n strewe om alles teen die lig te hou. Intellektuele, filosofies-georiënteerde boustof, gewis, maar denkstof wat gekonkretiseer word in ’n ryp oes van daaglikse belewenisse. Elke gedig is ’n instansie van nadenke waar verwarring en verwondering tot heerlik sintuiglike poësie gemaal word.

Een van Pieterse (2017:371) se voorstelle van invalshoeke waaruit die bundel ondersoek kan word, is die bestudering van ’n verskeidenheid literêre, wetenskaplike en kunsteoretiese intertekste. Kaar word deur Van Vuuren (2013:34) beskou as “’n postmodernistiese digbundel getipeer deur metaliriek (dit trek aandag na die vers as kunswerk, en toon wisselwerking tussen poëtiese teorie en praktyk [...])”.

Volgens Bezuidenhout (2013) het die digter die gawe om een saak in terme van ’n ander te sien en te noteer, en selfs ’n hele gedig soms as ’n uitgebreide metafoor te laat funksioneer. So ’n voorbeeld is “Woordverklaring”. Op grond van die verband tussen kaar en khôra, leen “Woordverklaring” sigself tot ’n poststrukturalistiese benadering waaruit die gedig hier onder ontleed en geïnterpreteer word.

 

3. Kaar en khôra

In die eerste strofe van die gedig “Woordverklaring” (Van Niekerk 2013:20) verklaar die digter die betekenis van kaar – ook die titel van die bundel – wat sy in reël 1 “’n Mooi ou Dietse woord” noem. Kaar word beskryf as ’n houer (vir heuning, vis, yswater), ’n skuit, ’n byekorf, ’n nis aan die bokant van ’n gletsergeut, ’n keteldal, ’n tregter (vir koring), en die mond van St. Ambrosius.

Hierdie verklarings stem basies ooreen met die inskrywings van dié lemma in die Nederlandse Encyclopedie (2023), naamlik “een depressie in een bergwand ontstaan door verwering en glaciale processen”, “een watergevuld compartiment in een schip”, “bak om vis te bewaren”, “bewaarplaats”, “glaciale nis”, “bijenkorf”, “vierkante en trechtervormige silo om een graanvoorraad in op te slaan”.

Op grond van bostaande verklarings van kaar, blyk dit dat die basiese betekenis ’n houer van die een of ander aard vir ’n verskeidenheid dinge is.

In Plato (2008:40, 43) se Timaeus (onderskeidelik 49a en 51a) word khôra ook as ’n houer beskryf: “receptacle [...] of all creation”; ook: “an invisible, formless receptacle of everything, which is in some highly obscure fashion linked with the intelligible realm”.

Hierdie filosofiese begrip wat etimologies afgelei is van die ou Griekse woord χώρα, wat volgens Liddell en Scott (1940) beteken “the space where something is, or any generic place”, is egter veel meer kompleks en fassinerend as die eenvoudige betekenis van “houer”, en word vervolgens in besonderhede bekyk.

 

4. Opvattings oor khôra

Die khôra-begrip het die verbeelding aangegryp van onder meer die neo-Platoniste, die Bisantynse kultuur, christen-mistici, psigoanaliste soos Julia Kristeva, postmoderne filosowe soos Jacques Derrida en John Caputo, asook die christen-filosoof Richard Kearney. Dié denkers se interpretasies hiervan is merendeels eiesoortig; tog is daar bepaalde aspekte wat oorvleuel in die verskillende beskouings daarvan.

Khôra word deur Plato as ’n houer (“receptacle” of hypodokhe), ruimte, matriks of moeder beskou, “a place of non-being out of which being develops” (Kuzma 2019:207). Kristeva (1980:133) verwys na Plato se begrip khôraas “receptacle, unnamable, improbable, hybrid, anterior to meaning, anterior to naming, to the One, to the father”.

Plato se Timaeus handel oor die proses waartydens die heelal en die mens geskep is. Khôra is dus instrumenteel in die oorgangsproses van die onbegryplike en onsigbare wêreld na die sigbare kosmos (die ordelike heelal). Dit is die leë, pleklose “ruimte” waarin alles tot stand gebring word (Peters 2017).

Geïnspireer deur Plato se begrip, voer Kristeva (1984:26) aan:

Although the khôra can be designated and regulated, it can never be definitively posited: as a result, one can situate the khôra and, if necessary, lend it a topology, but one can never give it axiomatic form.

Volgens haar gaan khôra bewyse, waarskynlikheid, ruimtelikheid en tydelikheid vooraf, en sy verwoord dit as ’n voor-betekenende toestand (Kristeva 1984:26).

Ook Caputo (1997b:35) beklemtoon dat khôra reeds vooraf bestaan:

[n]either form (idea) nor sensible thing, but the place (lieu) in which the demiurge impresses or cuts images of the intelligible paradigms, the place which was already there, which, while radically heterogenous with the forms, seems to be as old as the forms.

Hy noem khôra:

[...] an outsider, with no place to lay her/its head, in philosophy or in mythology, for it is the proper object of neither logos nor mythos, […] very apophatically, […] neither being nor non-being, neither sensible nor intelligible [...] neither present nor absent, active nor passive, the Good nor evil. (Caputo 1997b:35–6)

Volgens Derrida (1995:124) is khôra sonder syn, aangesien dit alle antropo-teologiese skemas, alle geskiedenis, alle openbaring, alle waarheid ontwyk; en hy verwys na die aanvangsletter x in die woord xώρα as aanduidend van die onidentifiseerbaarheid van khôra (Derrida 1995:99). Hy voer aan dat daar selfs nie beweer word dát khôra bestaan of nie bestaan nie; slegs dat daar khôra is (il y a khora) (Dooley 2003:109).

Die semiotiese khôra is vir Kristeva (1984:26):

[…] not yet a position that represents something for someone (i.e. it is not yet a sign) nor is it a position that represents someone for another position (i.e. it is not yet a signifier either) it is however generated in order to attain to this signifying process.

Dit het dus die potensiaal vir betekenisgewing.

In aansluiting hierby beskou Derrida (1997:97) khôra soos différance as ’n “great receptacle upon which every constituted trace or mark is imprinted, ‘older’, prior, preoriginary”. Khôra gaan die gapings en ruimtes van betekenis vooraf en bewoon dit. Khôra is die plek van dekonstruksie waar betekenis voortdurend verskuif (defer) word, ontglippend is en nie vasgevat kan word nie. Moord (2004:62) stel dit so:

Khôra thereby represents Derrida’s construal of an unavoidable impasse between the sign and the referent, between the other as other (as analogically appresented) and the other as such (as fully present). In this way khôra is the model figure of absolute resistance, and this prefigures the possibility of experiencing the impossible.

4.1 Khôra as baarmoeder

Khôra word onder meer as ’n soort “baarmoeder” beskryf.

Soos Plato, beskou ook Kristeva (1977:57) khôra as moederlik (“maternal”), anders as die simboliese waarvan die sleutelelement in psigoanalitiese terme vaderlik is. Sy vergelyk khôra met ’n baarmoeder:

[a] womb or a nurse in which elements are without identity and without reason. The chora is a place of a chaos which is and which becomes, preliminary to the constitution of the first measurable body [...] the chora plays with the body of the mother – of woman –, but in the signifying process.

Caputo (1997b:35) se siening is dat:

[k]hora is given a role interior to philosophy, assigned a proper place beside philosophy, and engenders a long history of philosophemes, as the matrix and mother of offspring like Aristotle’s hyle and Descartes’s extensio.

Nicoletta Isar (2009a:97), ’n kundige oor khoralogie, beskryf khôra eweneens as ’n matriks:

Chora is the nurse, the matrix (ekmageion), the womb and the receptacle in which creation takes place. She is a third kind of reality (tríton génos), a space-in-the-making, and in-between, because she partakes both of the intelligible, and the phenomenal bodies visiting her in the process of creation.

In die christelike konteks word die Maagd Maria soos Sallis (aangehaal in Isar 2009b:40) dit stel, die “bearer of God”, “replication of the khora in the body”.

Figuur 1. Mosaïek in die Kariye Müzesi buitekant Istanboel (Blachernitissa-styl, Anoniem, 14de eeu). Maria, Moeder van Jesus word uitgebeeld as die khora akhoraton, die “houer van die onbevatlike”.
Foto met vergunning van D.Z. van der Berg, geneem tydens ’n besoek aan Turkye, 2018.

Maria word in die Kariye Müzesi (die Khôra-klooster) buitekant Istanboel, in die Bisantynse styl ikonies as khôra uitgebeeld, met Christus in ’n eiervormige houer wat naamlik haar baarmoeder voorstel. Maria is die Χώρα του Αχωρήτου, oftewel die “houer van die onbevatlike”. Soos in die platoniese verstaan van khôra, ontvang Maria die goddelike persoon – Christus – binne-in haar liggaam sonder om Hom vir haarself toe te eien. Dit dui op haar rol as die instrument van inkarnasie waartydens sy, volgens die platoniese sienings van khôra, as die tussenganger tussen die menslike en die goddelike dien, die kontakpunt tussen alle dualismes. Sy is “the hymen that hyphenates them”, en word ’n paradoks, ’n antinoom, khôra, “the container of the uncontainable” (Manoussakis 2002:99). Ulanov (1977:19–20) bestempel khôra in terme van die Judaïsties-Christelike tradisie as ’n geïnkarneerde ruimte.

Richard Kearney (2003:195), ’n Ierse filosoof, voer aan: “For a human being to become an ego-self it must ‘abject’ this maternal matrix, henceforth considered off limits and taboo.” In haar Powers of horror: An essay on abjection definieer Kristeva (1982:4) die abjekte as “[...] what disturbs identity, system, order. What does not respect borders, positions, rules”. Sy voer aan dat die moederliggaam, “having been the mother, will turn into an abject. Repelling, rejection; repelling itself, rejecting itself. Ab-jecting” (Kristeva 1982:13). Vir Kristeva is abjeksie in ons sin van identiteit gewortel. Sy skryf dat “the abject has only one quality of the object and that is being opposed to I” (Kristeva 1982:1).

Caputo en Derrida herinner daaraan dat, hoewel die platoniese metafore van khôra as matriks en moeder in die Timaeus ’n sekere daad van welwillendheid of liefdadigheid impliseer, khôra hoegenaamd geen gewer van geskenke is nie (Dooley 2003:109). Khôra laat wel toe dat iets plaasvind, maar sonder koestering of versorging, want dit is geheel en al sonder karakter.

Volgens Derrida is khôra “this ‘thing’ that is nothing of that to which this ‘thing’ nonetheless seems to ‘give place’ (donner lieu) – without however, this ‘thing’ ever giving anything” (aangehaal deur Kearney 2003:200). Dooley (2003:109) wys daarop dat “giving place” niks te make het met produseer, skep of bestaan as sodanig nie.

4.2 Khôra as beweging

Hierdie wegbreek van die moederlike in die khôra-ruimte is ’n paradoksale beweging, met én teen khôra – in ’n sekere sin as ’n gelyktydige afhanklikheid én wegstoot daarvan. Die gevolg, voer Kearney (2003:196) verder aan, is dat: “khora is no more than the place where the subject is both generated and negated, the place where his unity succumbs before the process of charges and stases that produce him.”

Crous (2008:38) verwys na Prudhomme en Légaré wat khôra “a sort of dancing body” noem, wat voortdurend in beweging is en net soos die dans die danser toelaat om eindelose bewegings uit te voer. Net so is die semiotiese chora in staat om eindelose betekenisgewende bewegings uit te voer.

Volgens Isar (2004:60) bevat die Griekse woord chôra of khôra (χώρα) ’n gevoel van beweging, en dit is verwant aan die betekenis van die werkwoord chôréô wat twee betekenisse het: eerstens om te onttrek, om plek te maak vir ’n ander, terwyl die ruimte gelyktydig graveer word; tweedens om vorentoe te beweeg, maar ook om plek te bewerkstellig – ’n soort ruimte te genereer. Die oud-Griekse woord chorós dra die gedagte oor van kollektiewe gekoördineerde beweging, soos aksie of dans, of kollektiewe beweging soos ’n koor, soos choròs ástrôn (die dans van die sterre), of choròs melitôn (die dans van die bye).

4.3 Khôra as apofaties

Die beskouing van Maria as khôra of “houer van die onbevatlike” dui dus enersyds op die wonderbaarlike verwekking of bevrugting – met die baarmoeder as die plek van wonderwerke, van belofte, maar andersyds ook op God as onbevatlik, onhoubaar (“uncontainable”) – beslis nie bevatlik in woorde, metafore of beelde nie.

Dit sluit aan by die apofatiese tradisie, een van die oudste diskoersvorme wat mistici benut om aan die mistieke ervaring uitdrukking te gee, wat in verskeie wêreldgodsdienste aangetref word. Die christelike apofatiese teologiese benaderings onderskei tussen transendensie en immanensie: die transendente, onbekende God, en die immanente, kenotiese khôra. Namate die mens deel word van die transendente asook die immanente, is die ruimte waarin ons onsself bevind in die gaping tussenin geleë, die tríton génos, en in daardie ruimtelike en temporele gaping kom ’n kreatiewe, transformerende beweging van wording tot syn voor – die wonderbaarlike plek van belofte (Hite 2012).

Die diskoers van die Bisantynse khôra is apofaties en paradoksaal – sowel teenwoordig as afwesig. Isar (2009b:42) voer aan: “Gregory Nazianzus defines it as the space choreton kai achoreton, […] that is, ‘that which occupies space, and does not occupy space’.”

Kearney (2003:108) wys daarop dat die apofatiese tradisie met Plato begin het: “On the one hand the famous Good beyond being (epekeina tes ousias) that so influenced the Christian neo-Platonic heritage of negative theology; on the other hand, the infamous khora before being.”

Volgens Kuzma (2019:208) is dié apofatiese en paradoksale eienskappe wat Derrida ook met khôra in verband gebring het, moontlik gemaak deur die terughoudendheid waarmee Plato oor die presiese status van khôra skryf.

Caputo (1997a:92) verwys ook na apofatiese elemente:

khora looks a little like the unknown God, the deus absconditus, the mysterious origin beyond origin, about whom we cannot say a thing. This confusion or convergence of deconstruction and negative theology was something for which Derrida was criticized – why not congratulated? [...].

As gevolg van die persepsie dat die goddelike nie talig toereikend geformuleer kan word nie, volg mistici die via negativa en beskryf God by wyse van negering met uitsprake oor wat God nie is nie, eerder as oor wat Hy wel is. Vergelyk byvoorbeeld ’n 14de-eeuse anonieme skrywer se werk, The cloud of the unknowing, Moses se bergervaring, asook Dionisius se beskrywing van die mistikus se indompeling in:

[t]he truly mysterious darkness of unknowing. Here, renouncing all that the mind can conceive, wrapped entirely in the intangible and the invisible [...] he knows beyond the mind by knowing nothing. (Fanning 2001:36)

Willis (s.j.:5) verwys na hierdie ruimte as “an empty one, a void, a crack”, en haal Derrida aan wat aanvoer dat dit “the way through the desert” is, en “[w]riting is the moment of the desert as the moment of separation”. Caputo (1997b:37–8) voer aan apofatiese of negatiewe teologie:

[r]ecords the traces of a certain taking place of the trace, of a response to the wholly other, which bears testimony, witness, like a martyr, to the inescapable trace, to the solicitation of and by the wholly other that the I cannot have invented, which is inscribed in the trace, even if, especially if, only to efface its very inscription, to turn itself into Ashes, into a bare taking place, a desert place. Ashes and ashes, abyss and abyss, God and khôra.

Soos apofatiese teologie, getuig ook Derridiaanse dekonstruksie van die peillose diepte, wat Caputo “the mystical abyss” noem, en Willis (s.j.:6) beskryf as “a bare place in which discourse (re)turns as ash, as separation where we must take words on ourselves”. Vir Derrida lei die begeerte vir die onmoontlike, met die abîme (die peillose diepte, die abissale) as voorvereiste, na die “‘semantic mirage’ of différance as it differs and defers from one sign to another, forever producing differences whilst forever remaining utterly intangible” (Almond 2005:114).

Élisabeth de la Trinité (1984:94–5), ’n vroeg 20ste-eeuse Franse Karmeliet-non, verwys ook na die abissale, na aanleiding van Abyssus abyssum invocat (Ps 41:8):

“Abyss calls to abyss”. It is there in the very depths that the divine impact takes place, where the abyss of our nothingness encounters the Abyss of mercy, the immensity of the all of God. There we will find the strength to die to ourselves and, losing all vestige of self, we will be changed into love.

Om aan te sluit by die gedagte, “abyss of our nothingness”, die leë plek en die baarmoeder as khôra, wys Moord (2004:62) op Sara van die Ou Testament wat gelag het oor die moontlikheid om vanuit haar onvrugbare, dor baarmoeder – ’n plek van onmoontlikheid – ’n kind te baar.

Die leë plek is soos Rumi, die 13de-eeuse Soefi-digter en mistikus, se “place of the placeless”, waar apofatiese taal konseptuele taal dekonstrueer, “the space in which ‘truth’ is subverted, wounded, ruptured” (Willis s.j.:5). Dit is die woestyn, die apofatiese plek waarin taal en rasionaliteit nie die waarheid kan uitspreek nie. Die as (“ash”), of skeiding, verwys daarna dat God in sy volle aanwesigheid nie daar is nie. God het Homself in die rede geval met stilte, met skeiding, en al wat oorbly, is spore. Voss (1966) verwys daarna as “sacred deconstruction”.

As verteenwoordigend van die onuitspreeklike, verbind Michaels (2010:671) negatiewe teologie met die mistieke en dekonstruksie, wat ’n gemeenskaplike oomblik deel waarin taal misluk. Negatiewe of apofatiese teologie is die argument dat God beter geken word deur “unknowing” omdat al ons kennis gebaseer is op kategorieë wat van aardse skepsels geneem word (Van der Berg 2019:39). Dit is in die stilte van negatiewe teologie wat die mistieke funksioneer; ’n stilte wat die afwesigheid van betekenis in menslike taal herken. Dit is ook hierdie stilte wat Derrida in dekonstruksie erken. Daar is ’n afwesige aanwesige. In die mistieke is die sublimasie van die self in die onuitspreeklike goddelike ’n vorm van dekonstruksie. Die mistikus wat buite die wette van taal en die aanwesige beweeg, word gedekonstrueer.

Dit is in stilte wat die goddelike ervaar word, want woorde as uiterlike vorm is nie in staat om die goddelike uit te druk nie. Dit is in die stilte van die woestyn, in khôra, of negatiewe teologie waar die mistieke funksioneer; ’n stilte wat die afwesigheid van betekenis in menslike taal erken, soos in Derrida se dekonstruksie.

Stilte word deur Derrida as dinamies van aard beskou. Eerder as die beëindiging van taal, is stilte die oorsprong, die bron van alle spraak. Coward en Foshay (1992:221) voer aan: “Derrida evokes the image of going into the desert, [...] and experiencing an emancipation and silence out of which language can speak afresh.” Dit is dus noodsaaklik om oor hierdie stilte te praat en sodoende die begeerde te bewaar. In die woestyn stort die binêre teenstellings van aanwesigheid of afwesigheid en stilte of spraak ineen. Om die onuitspreeklike uit te druk, is sowel onmoontlik as noodsaaklik.

Die woestyn van khôra, of God se stilte, of die oomblik van dekonstruksie, is presies die opening wat die uitnodiging van God, Derrida se “Viens, oui, oui”, moontlik maak (Van der Berg 2019:147). Deur negatiewe teologie word God gered deur Hom te verloor, deur Hom van die perke van menslike taal te bevry en Hom anderkant kategorisering te bewaar. Sodoende word die opening en vryspel in die onbeslistheid van apofatiek, in khôra, behou of geskep. In die woorde van Willis (s.j.:6): “This is where desire is birthed and enflamed and forever/never consummated.” Dit is waar die begeerde bewaar word. Dit is nodig om te praat juis oor wat onuitspreeklik is, nodig en onmoontlik, en dit is die plek van gebed en begeerte.

Khôra is die ruimte waarin ’n opening, ’n aporia, geskep word, wat toelaat dat in die afwesigheid wat skryf meebring, die goddelike, die “Ander”, behou word en spore van die ontwykende Essensie ervaar kan word (Van der Berg 2019:151). Soos hier bo genoem, het ook Dionisius oor die waarde van heilige stilte geskryf. As gevolg daarvan, omdat dit vir die mistikus onmoontlik is om soos Sells (1988:134) dit stel, met “normal reference, predication, or logic” uitdrukking te gee aan die ervaring, ontstaan ’n aporia. In hierdie aporetiese ruimte, khôra, waar die “Ander” in die afwesigheid van die betekende paradoksaal behou word, word ’n opening geskep waar ’n uitnodiging aan die leser gerig word wat passievolle deelname vereis.

Sonder khôra is daar geen “onmoontlike” nie, geen poëtika van die moontlike van die onmoontlike nie, want daar sou niks wees om ons na die onmoontlike te dryf nie. Ons sou alle rede hê om te dink ons sal slaag, en nie in die onmoontlike situasie gedwing word om te hoop teen hoop in, en om te hoop, wanneer hoop onmoontlik is nie.

Sonder khôra sou die situasie wat die onmoontlike ontlok, wat die onmoontlike van ons vereis, wat geloof, hoop en barmhartigheid verwek, nie teweeggebring word nie.

Caputo (aangehaal in Dooley 2003:126–7) verduidelik sy insig oor die verwantskap tussen geloof en khôra. Met khôra, sê hy:

I am describing the desert sphere in which any genuine decision or movement of faith is to be made, where God and khora bleed into each other and create an element of ambiguity and undecidability within which the movement of faith is made, which shows up in mysticism as a dark night of the soul.

Laastens voer Caputo aan:

khôra is the felix culpa of a passion of the impossible, the happy fault of a poetics of the possible, the heartless heart of an ethical and religious escatology. Khora is the devil that justice demands we give his due. (In Dooley 2003:127)

4.4 Sleutelpunte

Khôra is geïdentifiseer as ’n houer sonder syn of karakter, maar wat die potensiaal vir skepping en betekenis bied. Derridiaans beskou, is dit die plek van dekonstruksie, die aporia, waar betekenis voortdurend verskuif (“defer”) word, ontglippend is en nie vasgevat kan word nie. Dit word ook, onder meer deur Kristeva, as baarmoeder beskryf, maar sonder koestering of versorging, want dit is geheel en al sonder karakter. Verwant aan die betekenis van die werkwoord chôréô, is daarop gewys dat khôra ’n gevoel van beweging inhou. Laastens is die apofatiese aspek van khôra as die ruimte van die onbevatlike onder die loep geneem.

 

5. ’n Interpretasie van “Woordverklaring” met kaar beskou as khôra

Woordverklaring

1 Kaar. ’n Mooi ou Dietse woord
2 vir iets waarin ’n mens kan vergaar
3 heuning, vis, yswater; in ’n skuit
4 ’n bak vir ’n lewendige paling
5 of ’n byekorf gevleg van spaanse riet,
6 stingels brem en langstrooirog;
7 ’n nis deur sneeu uit ’n spits geslyt
8 aan die bopunt van ’n gletsergeut
9 met onderaan ’n keteldal
10 waar, op ’n vloer van swerfsteen,
11 ’n dorp kan aanslib teen ’n meer.
12 ’n Tregter sonder voet
13 waardeur die koring
14 op die meulsteen stroom;
15 ook die mond van Sint Ambrosius
16 as kind waar die bye in- en uitravot
17 soos stille aforismes –
18 de bono mortis, de fuga saeculi.
19 ’n Vers dink ek, waarvan mens deur
20 die vlegwerk loer, deur deksel,
21 wolke, dooie neerslag –
22 om vóór die wyn, die brood,
23 die droë vis, die kiem,
24 die gis, die suur te kry; die gevaar
25 van vinne, ander spore, vars verskrik
26 soos van Gervasius en Protasius
27 of van ’n klank soos minne, orewoet,
28 doupunt en furore. In ’n kaar
29 wil ek begrawe word,
30 geen vuur, geen kis.
Kaar (2013:20)

 

In die eerste strofe verklaar die digter die woord kaar wat soortgelyk aan die inskrywings van dié lemma in die Nederlandse Encyclopedie (2023) al die volgende betekenisse het: ’n houer (reël 2), ’n watergevulde kompartement in ’n skip, ’n houer met gaatjies in om vis lewend te hou (reëls 3–4), ’n byekorf (reël 5), ’n nis in ’n berghang veroorsaak deur verwering en gletserbeweging (reëls 7–11), ’n tregtervormige silo in ’n tradisionele koringmeul om graan te versamel vanwaar dit “op die meulsteen stroom” (reëls 12–14). Oor “keteldal” (reël 9) wys Van Vuuren (2016:32) daarop dat kaar in Afrikaans ’n argeologiese term aandui, “keteldal” “(soos die Stellenbosch-vallei, tussen berge) of verweerde rots veroorsaak deur water- en wind-erosie”.

In al hierdie gevalle is kaar slegs die houer, die middel, om betekenis te gee. Interessant is dat die buiteblad van die digbundel, wat beskou kan word as ’n grafiese weerspieëling van die gedigte, van enige beeldende illustrasies gestroop is, wat daardeur aansluit by die khôra-gedagte wat, soos Dooley (2003:109) dit in afdeling 1 stel, sonder karakter is.

In reël 15 verwys “die mond van Sint Ambrosius” na die legende dat die vader van Sint Ambrosius (4de-eeuse Biskop van Milaan) die toekomstige biskop se uiteindelike welsprekendheid voorspel het toe ’n swerm bye die slapende kind se gesig bedek het. Hulle het hom egter nie gesteek nie, maar heuning op sy tong gelaat en toe weggevlieg. Die heuning is as ’n voorbode beskou van die soet, geestelik-versterkende woorde wat hierdie toekomstige heilige eendag sou spreek (St. Ambrose University 2019). O’Connor (2011) skryf dat ’n by “symbolises the soul that flies away from the body”; ook sê sy: “The sweetness of honey had a mystical sense; it was the taste of the sweetness of wisdom [...].”

Uit Sint Ambrosius se preke is dit duidelik dat sowel Plato as die neo-Platoniste, veral Philo, hom beïnvloed het (Mohrmann 1995:7–8). De bono mortis (“die dood as goed”) handel basies oor die platoniese gedagte dat die dood die siel van die gevangenis van die liggaam bevry en dat dit vir christene die ewige vreugde van die hemel bring (Jones 2007:3). Hierdie gedagte sluit dus aan by die simboliek van die heuning, soos hier bo aangedui. Dit was Sint Ambrosius se groot prestasie dat hy christelike en platoniese piëteit en metafisika in ’n enkele visie van die betekenis van menslike dood verenig het. Ooreenkomstig druk de fuga saeculi (letterlik “vlug van die wêreld af”) uit dat die mens sy toevlug tot God neem. Volgens Brown (2023) verraai hierdie preke “a deep acquaintance with Neoplatonic mystical language”.

Die beeldspraak van die heuning dui dus op die wysheid van die twee preke van Sint Ambrosius, De bono mortisen De fuga saeculi (reël 6). Met die aandagstreep aan die einde van reël 17, gevolg deur “de bono mortis, de fuga saeculi” in die volgende reël, dui die digter aan dat dié twee preke “stille aforismes” is.

Die term aforisme word deur HAT (2015) soos volg gedefinieer: “kernagtige, pittige sin/gesegde/spreuk [...]”. Andrew Hui (2019:420), skrywer van A theory of the aphorism: From Confucius to twitter, wys daarop dat “aforisme” etimologies uit die Griekse apo- (“vanaf, weg van”) en horizein (“om te begrens”) bestaan. Hy verduidelik verder die definisie van “horison”:

Merriam-Webster defines a horizon as “the apparent junction of earth and sky,” and as “the great circle on the celestial sphere formed by the intersection of the celestial sphere with a plane tangent to the earth’s surface at an observer’s position.” It is impossible to ever arrive at the horizon; it is infinitely receding, both immanent and imminent. Ever transcendent, it is like a line, without beginning or end, cutting the visible and invisible. (Hui 2019:420)

Hui (2019:419, 421) vergelyk ’n aforisme met ’n atoom wat baie klein is, maar ’n enorme denkontploffing kan veroorsaak: “fragment’s incompletion expresses an impossible desire for endless signification”.

Sint Ambrosius se mond as kaar, houer vir die bye en heuning, kan dus as khôra, betekenisskeppend vir die siel en vir geestelike wysheid beskou word. Die betekenaars, “de bono mortis”, “de fuga saeculi”, die “stille aforismes” – stil, want self is hulle onvolledig – verkry betekening (“signification”) deur die prediking van Sint Ambrosius in die kaar/khôra van sy mond. Die gedagte van die onvolledigheid van aforismes kan in ’n sin in verband gebring word met Derrida se begrip betekenaars (“signifiers”) wat as onvolledig, na elemente buite hulself verwys (Van der Berg 2019:301).

Die volgende aanhaling van Kristeva (1984:26) sluit hierby aan:

The chora is a modality of signifiance in which the linguistic sign is not yet articulated as the absence of an object and as the distinction between real and symbolic.

Die byvoeglike naamwoord “stille” (reël 17) resoneer met die stilte van negatiewe teologie, die stilte wat die afwesigheid van betekenis in menslike taal herken, en die stilte wat Derrida in dekonstruksie erken.

Die tweede strofe handel oor die beskouing van die gedig self as ’n kaar, as ’n houer vir woorde, die betekenaars. Die volgende aanhaling oor poësie deur Howe, voormalige staatsdigter van New York, resoneer hiermee:

It can’t be paraphrased. […] The great poetry I love holds the mystery of on being alive. It holds it in a kind of basket [my kursivering] of words that feels inevitable […] It has the quality of a spell […]. (Howe en Tippett 2017)

Die gedig word in reëls 20–1 uitgedruk as “vlegwerk”, “deksel”, “wolk” en “dooie neerslag” waardeur die leser “loer” om van die inhoud te probeer sin maak. Vergelyk reël 5 wat ook na “vlegwerk” verwys.

Linde (2018:18) beskou Van Niekerk se hele oeuvre as ’n komplekse en verstrengelde stuk borduur- of vlegwerk; ’n tipe quipu-sisteem. Van Vuuren (2014:507–8) verduidelik dat die Mexikaanse quipu ’n oervorm is waarmee boodskappe oorgedra is via ’n ingewikkelde sisteem van verskillende soorte touknope, gebruik deur mense vir kommunikasie oor duisende kilometers heen. Elke knoop dra ’n ander betekenis en boodskap oor (Fini 1989). Die sisteem is in misterie gehul en volgens Medranois en Urton (2018) “after more than a century of study, we remain unable to fully crack the code of the khipus”.

Ook “Woordverklaring” word voorgehou as ’n vlegwerk van knope – ’n kaar, ’n khôra – ’n houer met woorde/betekenaars wat tot betekenis lei. “Vlegwerk”, “deksel”, “wolke” en “dooie neerslag” het konnotasies met dit wat ondeursigtig, verborge, onbegryplik, misties is. Hierdie gedagte resoneer met die apofatiese aspek van khôra.

’n Aporia, ’n knoop, of khôra word geskep wat, soos kaar in hierdie gedig, die geleentheid skep vir betekenisgewing (Van der Berg 2019:160). Dit is volgens Derrida die plek waaruit syn ontwikkel en kan as sulks as een van die woordverklarings van kaar beskou word.

Die items wat in reëls 22–4 genoem word: “wyn”, “brood”, “vis”, “kiem”, “gis” en “suur” het alles die potensiaal vir groei of metaforiese ontwikkeling. “Brood” tesame met “vis” roep die gelykenis van die vyf brode en twee visse op wat Jesus vermenigvuldig het. Brood saam met wyn roep die nagmaalsritueel op wat aansluit by die gedagte van (geestelike) groei of versterking. “Kiem” is ’n klein organisme, maar soos HAT (2015) verklaar ook “eerste stadium van ’n idee” met “Die kiem van ’n nuwe verhaal het in die skrywer se gedagtes begin vorm aanneem” as gebruiksvoorbeeld. “Gis” en “suur” dui albei op iets wat brood laat rys of op ’n fermentasieproses. Hierdie items, of betekenaars, dui dus op ’n proses van ontwikkeling en groei – betekenisgewing, en herinner aan die definisie van die aforisme as atoom met die potensiaal vir denkontploffing.

Dit sluit aan by die gedagte dat die “betekenis” in Derridiaanse terme, die betekende, die poëtikaliteit, die ervaring van die gedig in platoniese terme losgemaak word van die beperktheid van taal, die betekenaars.

Die gedig self word beskou as die houer, die kaar, khôra wat betekenis moontlik maak. In die woorde van Kristeva (1977:40) kan kaar beskou word as die nieverbale semiotiese “verwoording” van die proses, soos musiek of argitektuur, of in hierdie geval die gedig.

Reëls 24–9 dra die idee oor dat hierdie betekenisgewende ervaring die leser met ’n verskeidenheid emosies kan vervul. Die leser word dus deel van die proses van betekenisgewing, en ervaar dit met sy sintuie – sien en hoor – met ander woorde, beliggaamd. In hierdie verband word daar verwys na die siening van T.T. Cloete:

“’n liggaam”, “een materie van geestelijke orde” (Nijhoff) [...], maar ook ’n taalliggaam waarin die digter se fisieke liggaam oorgedra kan word. Die gedig is enersyds “in-korporering, corpus, in-liggaming, in-lywing in taal” (Ander:122); andersyds is die liggaam net so belangrik vir die digter as vir die skilder of beeldhouer, want “dit is uit die fisieke liggaam wat gedigliggame getransendeer word, transmutasies van ’n geestelike orde [...]” (Ander:133) (aangehaal in Wolfaardt-Gräbe 2013:569).

Aan die een kant word vrees en verskrikking by die leser ingeboesem deur reëls 24–6, “die gevaar van vinne, ander spore, vars verskrik soos van Gervasius en Protasius”. Volgens Dipippo (2020) het Sint Ambrosius die oorskot van die tweede-eeuse martelaars, Sint Gervasius en Sint Protasius, onder die vloer van ’n kerk ontdek. “Vinne” wat naas “spore” in reël 26 voorkom, dui op die primordiale oorgang van ’n vis na buite die see wat spore gelaat het, en die twee woorde sluit dus aan by “trace” in die aanhaling van Derrida hier bo wat verwys na dit wat van die ontwykende essensie ervaar kan word.

Aan die ander kant kan dit ook ’n gevoel van liefde en vervoering ontlok soos aangedui deur “klank soos minne, orewoet, doupunt en furore” in reëls 27–8. Die Middelnederlandse mistieke term orewoet beteken volgens Van Oostrum (s.j.) “‘gloed’, ‘hitte’, ‘vurigheid’ en vooral als ‘geestelijke gloed, extase’”. Die mistieke assosiasie, ook met “minne”, is met die Middeleeuse mistikus, Hadewijch, vir wie die wesenlike aspek van die minnebelewing begeerte was en die dryfveer tot goddelike eenwording. Haar werk is ook veral bekend onder die titel Van minne spreken (Vekeman 1976).

Wat “furore” betref, word daar verwys na Stark (2008:261) vir wie furor poeticus ’n sleutelelement van die mistieke skryf- asook leesproses is. Die frase furor poeticus beteken dus dat die skrywer deur die goddelike bygestaan word in die skep van mistieke tekste. Bowendien raak hierdie drif ook lesers van mistieke tekste: “Inspired writing requires inspired reading: furor poeticus needs furor lectoris” (Van der Berg 2019:222).

Die leesproses behels dus aktiewe deelname aan die teks wat Attridge (2017:123–4) beskryf as “a performance of the singularity and otherness of the writing that constitutes the work as it comes into being for a particular reader in a particular context”. Vir Attridge (2017:39) is die ervaring van ’n literêre teks die ontmoeting met andersheid en sonderlingheid. Soortgelyk aan Sells se betekenisgebeurtenis, voer Attridge (2017:139) aan dat hierdie ontmoeting terselfdertyd ’n komplekse linguistiese, asook, en onafskeidbaar daarvan, ’n konseptuele, emosionele en fisiese gebeurtenis (“event”) is wat die leser as ’n wonderwerk ervaar. Volgens Attridge (2017:139) ervaar die leser wat dit ondergaan, ’n wonderwerk, en ervaar dit as ’n talige wonderwerk.

Wat die verwantskap van “doupunt” met “minne”, “orewoet” en “furore” betref, kan dit in hierdie konteks beskou word as die punt waar die gedig/digter/leser versadig word met ekstatiese, mistieke of gnostiese insig en Attridge se “event” ’n kreatiewe gebeurtenis en perspektiefverskuiwing word (Van der Berg 2019:171). Dit sluit ook aan by Sells (1988:148) se “meaning event” wat hy definieer as: “a secret or mystery that the reader continually uncovers in the act of reading and in each uncovering or unveiling the reader experiences what I have called the meaning event.”

Die volgende reëls: “In ’n kaar wil ek begrawe word, geen vuur, geen kis” (reëls 28–30) volg direk op “doupunt en furore”. Daar word dus afgelei dat die digter, versadig van begeesterdheid en mistieke ekstase, die wens uitspreek om nie veras of in ’n kis begrawe te word nie, maar in ’n kaar/khôra, ’n “houer van die onbevatlike” – die gedagte van khôra as baarmoeder. Hier kan betekenisgewing plaasvind, waar die betekende, haar siel, vrygemaak word van die betekenaar, haar dooie liggaam, wat aansluit by Kristeva se begrip, die abjekte. Die lyk, volgens Kristeva (1982:109), is die uiterste abjekte voorwerp, aangesien dit beskou word as “without God and outside of science” (Kristeva 1982:4).

Die gedagte van die siel wat vrygestel word, resoneer met die inhoud van Sint Ambrosius se preke oor die dood as goed – De bono mortis, en oor die vlug van die wêreld af – De fuga saeculi. Ook word hierdie mistieke kwaliteit versterk deur die verwysings, direk en indirek, na die mistici St. Ambrosius en Hadewijch.

In Crous (2017) se artikel “Sorg en versorging as tema in Marlene van Niekerk se Kaar” wys hy op verskillende tipes sorg in die bundel. Die betekenis van sorg kan as verwant beskou word aan die aspek van khôra as matriks en baarmoeder soos hier bo aangedui. Een van die betekenisse van kaar volgens Taaldacht (s.j.) is juis ook “sorg”. In “Woordverklaring” het kaar ook die implikasie van sorg, maar, soos khôra, slegs in die sin van “beskerm” of “omvat” ten einde iets te laat gebeur: “’n bak vir ’n lewendige paling”, “’n nis [...] keteldal [...] waar ’n dorp kan aanslib teen ’n meer”, “’n tregter [...] waardeur die koring [...] stroom”, “die mond van Sint Ambrosius [...]”.

Kaar het duidelik ook die konnotasie met khôra as beweging soos in afdeling 3 bespreek. In al die volgende voorbeelde van kaar is daar konnotasies van, of vind daar werklik beweging plaas: “’n bak vir ’n lewendige paling”, “’n byekorf”, “’n keteldal waar [...] ’n dorp kan aanslib”, “’n tregter [...] waardeur die koring [...] stroom”, “die mond van Sint Ambrosius [...] waar die bye in- en uitravot”. In die kaar-ruimte vind ’n kreatiewe, transformerende beweging van wording tot syn plaas – die wonderbaarlike plek van belofte (Hite 2012). Veral is die volgende stelling van Isar, soos vroeër aangedui, interessant: Die oud-Griekse woord chorós dra die gedagte oor van kollektiewe gekoördineerde beweging, soos aksie of dans, of kollektiewe beweging soos ’n koor, soos choròs ástrôn (die dans van die sterre), of choròs melitôn (die dans van die bye).

Die gedig self is ’n kaar, soos khôra, ’n “ruimte”, “a place of non-being out of which being develops” (Kuzma 2019:207). Dit is die houer met die potensiaal vir betekenisgewing. Hierdie gedagte kan ook deurgetrek word na Kaar as bundel. Khôra is die plek van dekonstruksie waar betekenis voortdurend verskuif (defer) word, ontglippend is en nie vasgevat kan word nie.

Soos Van Vuuren (2013) en Crous (2013) aanvoer, vier Van Niekerk in “Woordverklaring” haar woordkennis met ongewone en weinig gebruikte woorde, waarvan sommiges die leser lei na woordeboeke om die etimologie uit Middel-Nederlands na te slaan. Sy maak gebruik van Afrikaanse woorde wat selde gebruik word, Nederlandse woorde, sterk gelaaide emosionele woorde soos “verskrik”, “gevaar”, “minne”, “orewoet”, en “furore”, oorspronklike en ryke beeldspraak, intertekstuele verwysings en ander verstegniese strategieë. Hiermee word hierdie gedig, as “woordeboekverklaring”, self uit die kaar van die woordeboek losgemaak en verkry dit ’n eie performatiewe lewe waaraan die leser kan deel hê. As sulks word dit ’n ars poëtiese gedig en toon dit die manier aan waarop die poëtiese teks uitstyg en ’n magiese kwaliteit verkry.

 

6. Samevatting

Die semantiese ooreenkoms tussen kaar en khôra, naamlik “houer”, het aanleiding gegee tot ’n diepgaande ondersoek van khôra. Wat navorsing oor verskeie denkers se sienings oor khôra aan die lig gebring het, was dat hierdie begrip ’n hele spektrum betekenisse en verwysings bevat. Dit het implikasies wat met vrug ook op kaar soos dit in Van Niekerk se “Woordverklaring” benut is, toegepas kan word.

Deur ’n metaforiese beskouing van kaar as khôra, ’n ruimte sonder syn of karakter, maar wat betekenis in staat stel of moontlik maak, is daar in die interpretasie van “Woordverklaring” uitgewys dat kaar, soos khôra, groei, lewe, beweging, geestelikheid bewillig, en ’n bewegingsaspek bevat.

In die tweede strofe van “Woordverklaring” het die apofatiese aspek na vore gekom met die “vers” wat as dig, onsigbaar en verborge uitgedruk word. Hier is daar ook verwysings na die mistieke met beelde soos brood, wyn, vis; terme soos minne en orewoet (met mistieke konnotasies); die heilige Sint Ambrosius; die twee heilige martelare. Laastens funksioneer kaar as houer, as ’n doodskis, ’n soort baarmoeder wat abjekteer word wanneer die gees vrygestel word.

Die gevolgtrekking is dat “Woordverklaring” met so ’n interpretasie ’n verrykte betekenis verkry wat ook mistieke elemente bevat. Daarbenewens kan die gedig self as ’n kaar, ’n houer betekenaars beskou word met die potensiaal vir betekenisgewing.

 

Bibliografie

Almond, I. 2000. How not to deconstruct a Dominican: Derrida on God and “hypertruth”. Journal of the American Academy of Religion, 68(2):329–44.

—. 2005. Sufism and deconstruction: A comparative study of Derrida and Ibn ’Arabi. Londen: Taylor & Francis.

Attridge, D. 2017. The singularity of literature. Londen: Routledge.

Bezuidenhout, Z. 2013. Resensie: Kaar (Marlene van Niekerk). https://versindaba.co.za/tag/zandra-bezuidenhout-resensie (4 Januarie 2023 geraadpleeg).

Brown, P.R.L. 2023. St. Ambrose. Encyclopedia Britannica. https://www.britannica.com/biography/Saint-Ambrose (20 Desember 2022 geraadpleeg).

Caputo, J.D. (red.). 1997a. Deconstruction in a nutshell: A conversation with Jacques Derrida. New York: Fordham University Press.

Caputo, J.D. 1997b. The prayers and tears of Jacques Derrida: Religion without religion. Bloomington: Indiana University Press.

Covino, D.C. 2004. Amending the abject body: Aesthetic makeovers in medicine and culture. New York: State University of New York Press.

Coward, H. en T. Foshay. 1992. Derrida and negative theology. Met ’n slotsom deur J. Derrida. Albany, N.Y.: State University of New York Press.

Crous, M. 2008. “Ruik die verderf in die kieliebakke”: Breyten Breytenbach se blik op die lyk. Literator, 29(3):35–56. https://doi.org/10.4102/lit.v29i3.124 (22 Oktober 2023 geraadpleeg).

—. 2013. Abjection in the novels of Marlene van Niekerk. PhD-proefskrif, Universiteit van Kaapstad.

—. 2013. Poëtiese hoogtepunt van 2013. Rapport, 15 Desember:8.

—. 2017. Sorg en versorging in Marlene van Niekerk se Kaar. Stilet, 29(1):62–79.

Derrida, J. 1973. Speech and phenomena: And other essays on Husserl’s theory of signs. Vertaal deur D. Allison. Evanston: Northwestern University Press.

—. 1985. Writing and difference. Vertaal deur A. Bass. Chicago, IL: University of Chicago Press.

—. 1995. On the name. T. Dutoit (red.), vertalers D. Wood, J.P. Leavey en I. McLeod. Stanford: Stanford University Press.

—. 1997. Deconstruction in a nutshell: A conversation with Jacques Derrida. Geredigeer met kommentaar deur J.D. Caputo. New York: Fordham University Press.

Dipippo, G. 2020. The feast of Saints Gervasius and Protasius. https://www.newliturgicalmovement.org/2020/06/the-feast-of-saints-gervasius-and.html (16 Januarie 2023 geraadpleeg).

Dooley, M. (red.) 2003. A passion for the impossible: John D. Caputo in focus. Albany, NY: State University of New York Press.

Élisabeth de la Trinité. 1984. The complete works, vol. 1. Vertaal deur Suster A. Kane. Washington, DC: ICS Publications.

Fanning, S. 2001. Mystics of the Christian tradition. Londen: Routledge.

Fini, M. 1989. Mo Fini presents Quipu: The Inca accountancy. http://www.youtube.com/watch?v=z_lx9CgpX7c&feature=c4-overview&playnext=1&list=TLtqJAy2irwdI (7 Mei 2023 geraadpleeg).

Happold, F.C. 1970. Mysticism: A study and an anthology. Harmondsworth, Middlesex: Penguin Books.

HAT: Handwoordeboek van die Afrikaanse taal. 2015. Kaapstad: Pearson.

Hite, J. 2012. Reflections on Khora. https://jeanhite.wordpress.com/2012/02/15/reflections-on-khora (24 Februarie 2023 geraadpleeg).

Howe, M. en K. Tippett. 2017. On being: Krista Tippett’s interview of Marie Howe. https://www.dailygood.org/story/1688/the-power-of-words-to-save-us-marie-howe (Desember 2022 geraadpleeg).

Hui, A. 2019. Aphorism. New Literary History, 50(3):417–21.

Isar, N. 2004. Chorography (Chôra, Chorós): A performative paradigm of creation of sacred space in Byzantium. https://www.academia.edu/39894927/CHOROGRAPHY_CH%C3%94RA_CHOR%C3%93S_A_PERFORMATIVE_PARADIGM_OF_CREATION_OF_SACRED_SPACE_IN_BYZANTIUM (20 April 2023 geraadpleeg).

—. 2009a. Chôra: Creation and pathology: An inquiry into the origins of illness and human response. Europe’s Journal of Psychology, 2:96–109.

—. 2009b. Chôra: Tracing the presence. Review of European Studies, 1(1):39–50.

Jones, D.A. 2007. Approaching the end: A theological exploration of death and dying. New York: Oxford University Press.

Kearney, R. 2003. Strangers, gods and monsters: Interpreting otherness. Londen: Routledge.

Kristeva, J. 1977. “Le sujet en procès”, in Polylogue. Parys: Seuill.

—. 1980. Desire in language: A semiotic approach to literature and art. Vertaal deur L.S. Roudiez. New York, NY: Columbia University Press.

—. 1984. Revolution in poetic language. Vertaal deur L.S. Roudiez. New York: Columbia University Press.

Kuzma, J.D. 2019. Maurice Blanchot and psychoanalysis. Leiden: Brill.

Liddell, H.G. en R. Scott. 1940. A Greek-English lexicon. Hersien en volledig uitgebrei deur Sir H.S. Jones, met die samewerking van R. McKenzie. Oxford: Clarendon Press.

Linde, J.L. 2018. Relasionele performatisme: ’n Metamodernistiese benadering tot die resente werk van Marlene van Niekerk. PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit.

Manoussakis, J. 2002. Khora: The hermeneutics of hyphenation. Revista Portuguesa de Filosofia, 58(1):93–100. https://www.jstor.org/stable/40337673 (15 Desember 2022 geraadpleeg).

Medranois, M. en G. Urton. 2018. The khipu code: the knotty mystery of the Inkas’ 3D records. https://aeon.co/ideas/the-khipu-code-the-knotty-mystery-of-the-inkas-3d-records (25 Februarie 2023 geraadpleeg).

Michaels, A.G. 2010. The mystic and the poet: Identity formation, deformation, and reformation in Elizabeth Jennings’ “Teresa of Avila” and Kathleen Jamie’s “Julian of Norwich”. Christianity and Literature, (59)4:665–81.

Mohrmann, M.E. 1995. Wisdom and the moral life: The teachings of Ambrose of Milan. PhD-proefskrif, University of Virginia.

Moord, L.M. 2004. Conceiving the miraculous at the limits of deconstruction. MA-verhandeling, Institute for Christian Studies, Toronto.

Nederlandse Encyclopedie. 2023. Kaar. https://www.woorden.org/woord/kaar (30 Augustus 2022 geraadpleeg).

O’Connor, G. 2011. The ancient sacred origin of honey and bees. [Blog]. http://www.internationalspiritualexperience.com/blog/ancient-civilizations/the-ancient-sacred-origin-of-honey-and-bees (30 April 2023 geraadpleeg).

Peters, B. 2017. Container of the uncontainable. http://liturgy.co.nz/container-of-the-uncontainable (5 Desember 2022 geraadpleeg).

Pieterse, H.J. 2017. Variasie en variëteit: ’n Voorlopige verkenning van die voorkoms en funksie van taalvariëteite in Kaar (Marlene van Niekerk). Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(2/1):369–86.

Plato. 1925. Plato in twelve volumes, Vol. 9. Vertaal deur W.R.M. Lamb. Londen: William Heinemann.

—. 2008. Timaeus and Critias. Geredigeer deur A. Gregory en R. Waterfield. Oxford: Oxford University Press.

Sells, M. 1988. Ibn ’Arabi’s polished mirror: Perspective shift and meaning event. Studia Islamica, 67:121–49. http://www.jstor.org/stable/1595976 (7 Maart 2023 geraadpleeg).

Snyman, H. 2013. Kaar ’n klein ensiklopedie van woord en digkuns. LitNet Akademies-resensie-essay. http://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-kaar-n-klein-ensiklopedie-van-woord-en-digkuns/ (30 November 2022 geraadpleeg).

St. Ambrose University. 2019. Traditions. https://www.sau.edu/about-sau/history-of-sau/traditions (29 Augustus 2022 geraadpleeg).

Stark, R.J. 2008. Some aspects of Christian mystical rhetoric, philosophy, and poetry. Philosophy & Rhetoric, 41(3):260–77.

Taaldacht. s.j. Kaar. https://taaldacht.nl/vergeten-woorden-k (6 Oktober 2023 geraadpleeg).

Ulanov, A.B. 1977. Being and space. Union Seminary Quarterly Review, 33(1):1–22.

Van Coller, H.P. (red.). 2016. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 3. 2de uitgawe. Pretoria: Van Schaik.

Van der Berg, E.J. 2019. Performatiwiteit van taalgebruik en verstegniek in die mistieke digkuns van Jalāl al-Dīn Muhammad Rūmī, asook in die werk van geselekteerde Afrikaanse digters: ’n Vergelykende studie. PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit.

Van Niekerk, M. 2013. Kaar. Kaapstad: Human en Rousseau.

Van Oostrum, F. s.j. Hadewijch.net: Orewoet. https://hadewijch.net/orewoet (30 Januarie 2023 geraadpleeg).

Van Vuuren, H. 2013. Resensie: Kaar (2013) – Marlene van Niekerk. Die Burger, 29 Desember.

—. 2014. Passacaglia van J.S. Bach en Das Passagen-Werk van Walter Benjamin – literêre montage as mosaïekwerk in Memorandum: ’n Verhaal met skilderye (2006). Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(3):505–23.

—. 2016. Marlene van Niekerk (1954). In Van Coller (red.) 2016:919–53.

Vekeman, H. (red.) 1976. Van minne spreken: Nederlandse mystieke teksten uit de 13e eeuw. Nijmegen: Dekker & Van de Vegt.

Voss, K.-C. 1966. Imagination in mysticism and esotericism: Marsilio Ficino, Ignatius De Loyola, and alchemy. Studies in Spirituality, 6. https://www.academia.edu/20930513/Imagination_in_Mysticism_and_Esotericism (10 Januarie 2023 geraadpleeg).

Willis, S. s.j. Desire for the impossible: On Rumi and Derrida. https://www.academia.edu/6062951/Desire_For_The_Impossible_On_Rumi_and_Derrida (30 Desember 2022 geraadpleeg).

Wolfaardt-Gräbe, I. 2013. Poëtiese denke: gees/bewussyn, gevoel, (ge)wete. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 53(4):558–77.

 

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Khôra en kaar: ’n bespreking van khôra en interpretasie van Marlene van Niekerk se gedig “Woordverklaring” first appeared on LitNet.

The post <i>Khôra</i> en <i>kaar</i>: ’n bespreking van <i>khôra</i> en interpretasie van Marlene van Niekerk se gedig “Woordverklaring” appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 795

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>