Quantcast
Channel: LitNet Akademies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 795

Die voortgesette ontwikkeling van studies in Middeleeuse seksualiteit

$
0
0

Die voortgesette ontwikkeling van studies in Middeleeuse seksualiteit

Johann Beukes, Departement Filosofie en Klassieke, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 21(1)
ISSN 1995-5928
https://doi.org/10.56273/1995-5928/2024/j21n1b1

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Hierdie artikel ondersoek die voortgesette ontwikkeling van studies in Middeleeuse seksualiteit as ’n dissipline binne die groter vakgebiede Middeleeuse studies en mediëvalistiek. Na ’n verrekening van die invloed van die eerste en vierde bande van die Franse ideëhistorikus Michel Foucault (1926–1984) se seksualiteitsgeskiedenis (Histoire de la sexualité) en die waardevolle bydrae van twee onlangse publikasies (Ruth Mazo Karras en Katherine Pierpont se Sexuality in medieval Europe: Doing unto others, 2023, en Katherine Harvey se The fires of lust: sex in the Middle Ages, 2021) word vyf dissiplinêre oorwegings vir die verdere ontwikkeling van hierdie ontluikende dissipline aangebied. Dit behels die posisionering van studies in Middeleeuse seksualiteit binne sowel Middeleeuse studies as mediëvalistiek, die verrekening van ’n tweeliggaamsopvatting in Middeleeuse seksualiteit, die handhawing van die begrip Middeleeuse seksualiteit as ’n diensbare anakronisme, die kritiese bestryding van seksuele mediëvalismes en die komplekse ontginning van die verskuilde Middeleeuse bronne. Langs hierdie weg word ’n werkbare register vir die eietydse navorsingsontwikkeling van studies in Middeleeuse seksualiteit opgestel.

Trefwoorde: Michel Foucault (1926–1984); Histoire de la sexualité; Middeleeuse filosofie; Middeleeuse seksualiteit; Middeleeuse studies; mediëvalisme; mediëvalistiek; neomediëvalisme; studies in Middeleeuse seksualiteit

 

Abstract

The ongoing development of studies in medieval sexuality

This article explores the ongoing development of studies in medieval sexuality as a discipline within the broader fields of medieval studies and medievalist studies. After outlining the influence of the first and fourth volumes of the French historian of ideas Michel Foucault’s (1926–1984) history of sexuality (Histoire de la sexualité), and the valuable contribution of two recent publications (Ruth Mazo Karras and Katherine Pierpont’s Sexuality in medieval Europe: Doing unto others, 2023, and Katherine Harvey’s The fires of lust: sex in the Middle Ages, 2021), several considerations in the continuing development of studies in medieval sexuality are discoursed.

In the first and fourth volumes of Histoire de la sexualité (La volonté de savoir, 1976, and Les aveux de la chair, published in February 2018 at Gallimard in Paris under the editorship of Frédéric Gros), Foucault concludes that views on sex in the medieval Latin West became “the seismograph of modern subjectivity”. This dense deduction was brought into the spotlight again after the recent publication of Les aveux de la chair, in which Foucault explores several church and desert fathers’ views on sex, concluding the work with a thorough exposition on Augustine, who can be considered the first medieval philosopher. With his reading of the church fathers and the early Middle Ages in Les aveux de la chair, Foucault supplements references to medieval sexuality in the central Middle Ages in La volonté de savoir, specifically regarding the sacramentalisation of confession after the Fourth Lateran Council of 1215.

After exploring the immediate effect of La volonté de savoir and Les aveux de la chair on the development of studies in medieval sexuality, especially regarding the relation between the repressive hypothesis of the 19th century and the formalisation of confession in the early 13th century, sexuality being a “recent invention”, the development of scientia sexualis from the 17th century onward, and the development of a post-medieval sexual vernacular, an appreciative review of the recent works of Karras and Pierpont (2023) and Harvey (2021) is offered.

While acknowledging the contributions of several pioneering scholars in the early development of studies in medieval sexuality after the publication of La volonté de savoir in 1976 (inter alia Peter Brown’s The body and society: men, women and sexual renunciation in early Christianity [1988], Vern Bullough and James Brandage’s Sexual practices and the medieval church [1982] and Handbook of medieval sexuality [1996], Albrecht Classen’s Sexuality in the Middle Ages and early modern times [2008], Karma Lochrie, Peggy McCracken and James Schultz’s Constructing medieval sexuality [1997], Jacqueline Murray and Konrad Eisenbichler’s Desire and discipline: sex and sexuality in the pre-modern West [1996], Pierre Payer’s The bridling of desire: views of sex in the later Middle Ages [1993], and Joyce Salisbury’s Medieval sexuality [1990] and Sex in the Middle Ages[1991]), the article draws on the recent inputs of Ruth Evans, Bruce Holsinger, Ivica Raguž and Irvin Resnick to complement the author’s latest analyses of sodomy and female same-sex relations from the early to the later Middle Ages and the author’s dismissals of sexual medievalisms in, for instance, neomedievalist contexts.

Five considerations in the advance of studies in medieval sexuality, grounded in what could be depicted as topics of consensus in the existing literature, are henceforth promoted. These pertain to the positioning of studies in medieval sexuality in a Venn-diagrammatical relation of medieval studies and medievalist studies, the estimation of a dual body perspective in medieval sexuality, maintaining the concept of medieval sexuality as a useful anachronism, the critical countering of sexual medievalisms, and the complex process of the identification, editing and translation of the by default concealed medieval sources.

Keywords: Michel Foucault (1926–1984); Histoire de la sexualité; Middle Ages; medieval philosophy; medieval sexuality; medieval studies; medievalism; medievalist studies; neomedievalism; studies in medieval sexuality

 

1. Die invloed van Michel Foucault se Histoire de la sexualité, Bande 1 en 4

In die eerste en vierde bande van Histoire de la sexualité (La volonté de savoir [Foucault 1976] en Les aveux de la chair [Gros red. 2018, Foucault 2018]) – kom die Franse ideëhistorikus Michel Foucault (1926–1984) tot die gevolgtrekking dat opvattinge oor seks in die Middeleeuse Latynse Weste “die seismograaf van moderne subjektiwiteit” geword het (Foucault 1999:183).1 Hierdie gelade afleiding is opnuut in die soeklig gebring met die publikasie van Les aveux de la chair as die geredigeerde vierde band van Foucault se seksualiteitsgeskiedenis. In hierdie werk ondersoek Foucault die latere kerkvaders van die vierde en vyfde eeue se beskouinge oor seks en sluit die werk af met ’n afdeling oor die laaste Westerse kerkvader en eerste Middeleeuse filosoof, Augustinus van Hippo (354–430; Foucault 2018:342–60). Met sy lesing van die kerkvaders en die vroeë Middeleeue in Les aveux de la chair verruim Foucault verwysings na seksualiteit in die sentrale Middeleeue in La volonté de savoir, spesifiek ten opsigte van die sakramentalisering van die bieg na afloop van die Vierde Lateraanse Konsilie van 1215 (Foucault 1976:15–33).

Teen hierdie agtergrond is die eerste oogmerk van die artikel om studies in Middeleeuse seksualiteit in ’n dissiplinêre ruimte tussen die groter vakgebiede Middeleeuse studies en mediëvalistiek te begrond. Na ’n verrekening van die invloed en nawerking van La volonté de savoir en Les aveux de la chair, asook die konstruktiewe bydrae van twee onlangse publikasies (Ruth Mazo Karras en Katherine Pierpont se Sexuality in medieval Europe: Doing unto others, 2023, en Katherine Harvey se The fires of lust: sex in the Middle Ages, 2021), word vyf dissiplinêre oorwegings vir die verdere navorsingsontwikkeling in die ontluikende dissipline aangebied. Dit behels die afbakening van die veld (die posisionering van studies in Middeleeuse seksualiteit binne sowel Middeleeuse studies as mediëvalistiek), ’n uitdruklik tematiese oorweging (die verrekening van ’n tweeliggaamsopvatting in Middeleeuse seksualiteit), die verdediging van ’n kernkonsep in die veld (die handhawing van die begrip Middeleeuse seksualiteit as ’n diensbare anakronisme), die bepleiting van ’n kritiese benadering tot stereotipes wat met die veld verband hou (die bestryding van seksuele mediëvalismes) en ’n aspek wat besondere uitdagings aan die studieveld stel (die komplekse ontginning van die verskuilde Middeleeuse bronne).

1.1 Die repressiehipotese van die 19de eeu en die kerklike bieg van die 13de eeu

Anders as in pornografie, en selfs erotika, gaan seksualiteit nie bloot oor seks nie – waar “seks” eenvoudig op ’n handeling dui, vertel “seksualiteit” ’n maatskaplike verhaal. Hoe ’n samelewing oor seks dink en praat, ontbloot veel van daardie samelewing se grondliggende opvattinge oor onder meer identiteit, vryheid, moraliteit en geregtigheid. Seksualiteit, die diskoers oor seks, hou dus kultuurkritiese gevolge in. Hierdie stelling hoef nie noodwendig Freudiaans vertolk te word nie. Die mees uitstaande kenmerk2 van La volonté de savoir was juis Foucault (1976:1–16) se kritiek teen die Freudiaanse repressiehipotese wat in die 1960’s opnuut gewild in psigoanalitiese en neo-Marxistiese kringe geword het. Hiervolgens was die 19de-eeuse Victoriaanse samelewing gekenmerk deur die onderdrukking van seksuele begeertes, wat tot allerlei neuroses aanleiding gegee het en eers gedurende die kultuurrevolusie van die 1960’s onder die invloed van tweedegeslag-psigoanalitici soos Wilhelm Reich (1897–1957) aangespreek sou word, om daarmee selfverwesenliking deur middel van seksuele bevryding te bewerkstellig.

Foucault voer egter aan dat hier geen sprake was van bevryding nie, maar juis ’n nuwe vorm van magsuitoefening waarin mense opnuut gedwing is om die waarheid oor hulle seksuele ervarings te beken, en wat nouliks verskil van die patologisering van seksualiteit (byvoorbeeld “homoseksualiteit” teenoor “heteroseksualiteit”) wat so dominant in psigiatriese kringe in die laaste dekades van die 19de eeu was (op grond waarvan onder meer “homoseksualiteit” vanaf 1891 as ’n diagnoseerbare en geneesbare patologie gekenmerk is).3 Foucault betoog dat seksuele begeertes nie natuurlike of biologiese werklikhede is nie, maar vormprodukte van die verhouding tussen kennis en mag: Seksuele begeertes moet dus eerder as kulturele en kultuurhistoriese verskynsels verstaan word. In hierdie tweeledige opsig, kultureel en kultuurhistories, sit psigoanalise op diskursiewe wyse deelname aan die Christelike sakrament van die bieg, gekanoniseer ná die Vierde Lateraanse Konsilie van 1215, voort.

1.2 Seksualiteit is ’n “betreklik onlangse uitvinding”

Foucault voer voorts aan dat moderne psigoterapeute sedert Freud, net soos die kerkvaders van die laatpatristiek en die biegvaders van die sentrale Middeleeue, met hulle nuut ontwerpte bekentenisse van die vlees ’n vorm van pastorale mag oor kwesbare individue uitoefen ter wille van hierdie nuutgevonde pasiënte se gewaande liggaamlike en geestelike welsyn. Hy voer daarby aan dat die Westerse samelewing reeds vanaf die 13de eeu (en nie eers vanaf die Victoriaanse era in die 19de eeu nie) sistematies op seks gefikseer het. Die Middeleeuse kerklike ordinansies wat seksuele kontak streng gereguleer het, het deur middel van die bieg ’n progressiewe openbaarmaking of “diskoers” voortgebring wat daartoe gelei het dat seks – wat ten minste in die antieke wêreld as ’n private aangeleentheid geag is (sien 1.3) – ’n maatskaplike alomteenwoordigheid geword het. Die moderne begrip seksualiteit is self ’n gevolg van hierdie 13de-eeuse diskoers oor seks wat vanaf die 17de eeu, maar veral in die 19de eeu, sistematies ontwikkel is. Dit is die rede waarom seksualiteit volgens Foucault (1976:15) ’n “betreklik onlangse uitvinding” is. Die streng regulering van seks in die Middeleeue was ironies buitengewoon produktief: Seksuele identiteite is daardeur geskep en ’n meervoudigheid van seksualiteite, of die veelvoud van wyses waarop oor seks nagedink en gepraat is, is juis op hierdie wyse bevorder.

1.3 Scientia sexualis: die moderne diskoers oor seks vanaf die 17de eeu

Volgens Foucault is histories twee basisperspektiewe op seks aan te merk. In antieke China, Japan, Indië en die Romeinse Ryk is seks beskou as ars erotica, of erotiese kuns wat uitsonderlike erotiese ervaringe en vaardighede ingehou het en nie in verband gebring is met ’n skande wat deur kulturele stelreëls uitgeban moes word nie. Seks is binne hierdie antieke kultuurkontekste privaat benader en geheim gehou op grond van die beskouing dat onnodige openbaarmaking seksuele plesier juis ondermyn. In die Westerse samelewing vanaf die 17de eeu is egter ’n ander verskynsel geskep, wat Foucault scientia sexualis, of die “kennis van seksualiteit”, of die “verwetenskapliking van seks”, noem. Scientia sexualis is volgens Foucault diskursief dus reeds in die 13de eeu gegrondves in die kerklike bieg, wat as ’n vorm van (hoewel subtiele) openbaarmaking ’n algehele teenoorstelling van ars erotica was. Met die “bieg” bedoel Foucault sowel die gekanoniseerde biegpraktyk vanaf 1215 as die behoefte wat daarna toenemend in die samelewing self ontstaan het om vanuit die bieg (die waarheid oor ’n betrokke persoon se seksuele verlede is immers nou reeds vertel) voortgaande oor seks te praat. Dit gaan in die bieg nie oor ’n morele oorweging, byvoorbeeld die erkenning van seksuele ontrouheid of ’n vergryp nie, maar oor die bieg van die seksuele handeling as sodanig.

Reeds so vroeg as in die 11de eeu moes selfs getroude mense minstens jaarliks by ’n geordende priester oor hulle seksuele ervarings bieg. Hierdeur is ’n fiksasie geskep om die “waarheid oor seks” in ’n begrip – later dus seksualiteit genoem – vas te vang, ’n waarheid wat gebieg moes word en toenemend openbaar gemaak sou word. Foucault vind die ideëhistoriese oorsprong hiervan in die vroeë Middeleeuse Christendom se kenmerkende beskouing van seksuele begeerte as ’n verskuilde en verraderlike krag wat slegs deur versigtige selfwaarneming, selfondersoek en bekentenis onder leiding van ’n bekwame konfessor opgespoor en uitgeroei sou kon word. Juis daarom moes elke seksuele besonderheid onder woorde gebring word in die bieg. Elke spoor van (die verlange na) seksuele plesier moes ondersoek word om die dieper letsels van die hoogste doodsonde van wellus (luxuria) daarin te vind.4 Die weliswaar “pornografiese obsessie met seks”5 in die moderne Westerse samelewing is volgens Foucault (1976:48) juis in hierdie aandrang op besonderhede in die Middeleeuse bieg terug te vind: Pornografie bied immers weinig meer as kontekslose en vervlietende detail. Die Middeleeuse kerk se reëlmatige tipering van seks as gevaarlik en skandelik, en die kerkordelike poging om seks onder beheer te bring deur middel van die bieg, het hierdie fiksasie op besonderhede en die gevolglike ontwikkeling van seksualiteit nie getemper nie. Trouens, juis die teenoorgestelde het gebeur: Die begrip seksualiteit is deur die aandrang op besonderhede in die bieg versterk en seks het juis oral sigbaar geword.

1.4 Die ontwikkeling van ’n nuwe seksuele woordeskat

Foucault benadruk hierby die verband tussen die “betreklik onlangse uitvinding” van seksualiteit en die ontwikkeling van ’n nuwe seksuele woordeskat. Die term seksuele woordeskat (of skerper latinisties, seksuele vernakulêr) is reeds in die Middeleeue gebruik om na die mees algemene en tegelyk private woorde in ’n betrokke taal te verwys. Die seksuele woordeskat is dus “die taal van die mense” in ’n bepaalde taalgemeenskap en vertoon daarom dikwels vulgêr. In Afrikaans sou die seksuelewoordeskatwoord vir die scientia sexualis-term vulva ’n veel meer robuuste woord wees wat in die oorspronklike voertaal, Nederlands, eerder die betekenis van “huiskat” het. Daardie huiskatwoord geld buite die private Afrikaanse seksuele konteks egter as vulgêr, juis daarom ook as ’n vloekwoord, of moet andersins binne hierdie private konteks in ’n eufemisme omgestel word wat slegs vir die twee taalgenote toeganklik en verstaanbaar sou wees (Foucault 1976:43).

Ten opsigte van vulgariteite en die ou seksuele woordeskat moet in gedagte gehou word dat die Middeleeuse diskoers oor die ondeugde (vitia), veral ten opsigte van die seksuele ondeugde (onder meer luxuria, petulantia, joculatrix en ingluvies ventri), reeds vanaf die 11de eeu tot nog in die 17de eeu uitdagende eise gestel het, met slegs die ou woordeskat in Latyn en die variante daarvan in die oud-Europese volkstale beskikbaar. Die haastig ontwikkelde 19de-eeuse register van scientia sexualis maak egter voorsiening vir nuutgeskepte (eufemistiese, transtalige en transkulturele) neo-Latynse aanwysers soos penis, vulva, labia, vagina, clitoris, coitus) en so meer, wat dit maklik maak om nou ook in moderne tale onverstoord oor dié “vulgêre” sake te praat. In die Middeleeue was egter slegs die ou seksuele woordeskat beskikbaar: Wat scientia sexualis byvoorbeeld met die onderspeelde terme fellatio en cunnilingus (wat neutraal vertaal kan word as orale seks) aandui, is in die oorspronklike Latyn aangewys met luidrugtiger woorde soos irrumo, fello, lingo mentula en lingo cunnus (Adams 1982:125, 130, 134).6 Foucault se saaklike punt is dat die ontwikkeling van seksualiteit as diskoers nie sou kon plaasgevind het sonder hierdie grondige aanpassing van die seksuele woordeskat vanaf die private Middeleeuse Latynse vulgêre woord na die openbare moderne neo-Latynse meer fatsoenlike woord nie. Weer ironies is dit slegs met gebruikmaking van die scientia sexualis-woordeskat dat dit terugskouend moontlik is om van “Middeleeuse seksualiteit” te praat – in die Middeleeue was daar immers net “huiskat”-woorde en nie “vulva”-woorde nie.

 

2. Twee waardevolle bydraes vanuit die mees onlangse navorsing

Foucault het studies in Middeleeuse seksualiteit feitlik eiehandig van stapel gestuur sonder dat dit die beslissende oogmerk van sy seksualiteitsgeskiedenis was. Voor die verskyning van die eerste drie bande van Histoire de la sexualité (van 1976 tot 1984) was uitermate min oor hierdie tema beskikbaar, selfs in die gespesialiseerde Middeleeuse navorsing, en grootliks beperk tot die redigering en vertaling van Middeleeue bieghandleidings, waarin verwysings na seks wel sistematies voorgekom het. Na die verskyning van die derde band (en Foucault se voortydige dood) in Junie 1984 het die ontwikkeling van die jong dissipline behoorlik op dreef gekom. Belangrike bydraes tot die vakkundige ontwikkeling na Foucault sou moes insluit Peter Brown se The body and society: men, women and sexual renunciation in early Christianity (1988), Vern Bullough en James Brandage se Sexual practices and the medieval church (1982) en Handbook of medieval sexuality (reds. 1996), Albrecht Classen se Sexuality in the Middle Ages and early modern times (red. 2008), Karma Lochrie, Peggy McCracken en James Schultz se Constructing medieval sexuality (reds. 1997), Jacqueline Murray en Konrad Eisenbichler se Desire and discipline: sex and sexuality in the pre-modern West (1996), Pierre Payer se The bridling of desire: views of sex in the later Middle Ages (1993), en Joyce Salisbury se Medieval sexuality (1990) en Sex in the Middle Ages (red. 1991).

Sedert die verskyning van die postuum geredigeerde Les aveux de la chair in 2018 is ’n nuwe stroomversnelling merkbaar in die navorsing oor Middeleeuse seksualiteit, veral ten opsigte van nog algeheel onverkende temas. In my eie werk sluit dit onder meer in navorsing oor vroulike homoërotiek en intervroulike seksualiteit in die vroeë, sentrale en latere Middeleeue,7 die kritiese bestryding van seksuele mediëvalismes, waaronder die karikatuur van die “aweregse non” in Middeleeuse vrouekloosters,8 die ervaring van mistieke orgasme, of raptus, as gevolg van die fragmentering van die vroulike liggaam in die sentrale Middeleeue,9 en selfkastyding en ander Middeleeuse maagdelikheidstegnieke as vorme van seksuele kultuurkritiek of contre-conduit.10 Daarby kan gevoeg word die verkenning van erotiese aspekte in die nagelate tekste van ’n beduidende aantal vroulike denkers uit die Middeleeue, onder andere begyne soos Hadewijch van Antwerpen (fl. 1240) en Marguerite Porete (1250–1310), en nonne soos die Benediktyn Hildegard von Bingen (1098–1179) en die Dominikaan Katharina van Siëna (1347–1380).11

Ook navorsers in Middeleeuse studies wat nie in Middeleeuse filosofie of Foucault-studies spesialiseer nie, het die afgelope jare tematies skerper op Middeleeuse seksualiteit begin fokus. Twee onlangse publikasies staan in hierdie opsig uit. Die bywerking en vierde herdruk van die aanvanklik beskeie oorsigwerk van Ruth Mazo Karras (Sexuality in medieval Europe: Doing unto others, bygestaan deur Katherine Pierpont, 2023, eerste uitgawe 2005),12 verteenwoordig in hierdie opsig ’n belangrike bydrae. Met vyf diggeskrewe hoofstukke en ’n omvangryke nabetragting verken die twee skrywers belangrike kultuurhistoriese temas, waaronder die spontane Middeleeuse verbinding van kuisheid en seks, en die skerp gereguleerde rol van seks binne en buite (die Middeleeuse verstaan van) die huwelik. Karras en Pierpont (2023:12–3, 15, 241, 249) vind met instemming regstreeks aansluiting by Foucault se ontleding in La volonté de savoir, en implisiet by Les aveux de la chair. Sexuality in medieval Europe staan in verlengstuk van Karras (1996) se voorafgaande ondersoek na prostitusie en die buitengewoon hoë voorkoms van buitehuwelikse seks en algemene promiskuïteit in Middeleeuse Engeland, asook haar latere werk oor owerspel in die Middeleeue (Unmarriages: women, men, and sexual unions in the Middle Ages, 2012). Ook in dié twee werke word tematies aansluiting by Foucault gevind, veral ten opsigte van sy oortuiging dat die Middeleeuse diskoers oor seks verrassend eenstemmig was en oor ’n tydperk van meer as 1 000 jaar kwalik aangepas is. Wat Augustinus byvoorbeeld in die vyfde eeu oor die aard, rol en legitimiteit van seks binne die Christelike huwelik gesê het, is grootliks onveranderd tot nog in die 15de eeu gehandhaaf.13 Juis die betreklik onverstoorde opvattinge oor seks in die Middeleeue maak dit moontlik om op Foucault se spoor van “Middeleeuse seksualiteit” te praat sonder om dit noodwendig in terme van die vroeë, sentrale en latere Middeleeue te moet kwalifiseer.

Digby Karras en Piermont se bygewerkte oorsigwerk staan Katherine Harvey (2021) se The fires of lust: sex in the Middle Ages uit as ’n noemenswaardige onlangse navorsingsbydrae.14 Hoewel Harvey nie uitdruklik aansluiting by Foucault vind nie, verken sy deur die loop van 11 fyn gekonstrueerde hoofstukke temas wat oorspronklik deur Foucault ontwikkel is, veral ten opsigte van die verhouding tussen mag, seks, waarneming, beheer, normalisering en selfondersoek. Hierby kan gevoeg word Ruth Evans se ietwat ouer kultuurhistoriese redaksiewerk A cultural history of sexuality in the Middle Ages (Evans red. 2014) as ’n waardevolle toevoeging tot die groeiende vakliteratuur, gekenmerk deur ’n toename in boekhoofstukke en vakwetenskaplike artikels wat navorsingsnisse in Middeleeuse seksualiteit identifiseer en hierdie jong navorsingsveld beduidend begin verruim. Twee noemenswaardige artikels wat sedert die publikasie van Les aveux de la chair verskyn het, is dié van Bychowski (2018:161–78) en Resnick (2019:293–315). Daar is ook ’n toename in publikasies wat eietydse probleme wat met seksuele geweld en seksuele misdaad saamhang (waaronder die skynbaar eindelose onsedelike aanranding en verkragting van kinders deur Katolieke ampsdraers), na Middeleeuse verskynsels soos die selibaat en die bieg herlei. Hiervan is Dyan Elliott se The corrupter of boys: sodomy, scandal and the medieval clergy (2020) ’n goeie voorbeeld (sien ook Elliott 2012:90–105).15

Sonder om ’n streng vergelykende lesing van die ontledings van Foucault, van my, van Karras en Piermont, Harvey, of enige van die ouer en steeds gesaghebbende bydraes vanaf 1984 aan te bied, is dit moontlik om op ’n aantal temas in die bestaande literatuur te wys waaroor daar tans min of geen meningsverskille bestaan nie. Hierdie temas van konsensus kan as ’n bondige register vir die voortgesette ontwikkeling van studies in Middeleeuse seksualiteit dien.

 

3. Temas van konsensus in die bestaande navorsing

3.1 Die posisionering van studies in Middeleeuse seksualiteit binne sowel Middeleeuse studies as mediëvalistiek

Studies in Middeleeuse seksualiteit behoort beskerm te word teen die indruk dat dit bloot ’n histories-spekulatiewe oefening of andersins ’n voormoderne kantaantekening tot moderne seksualiteitstudies is. Een wyse waarop dit vermag kan word, is deur studies in Middeleeuse seksualiteit uitdruklik binne die groter vakgebied Middeleeuse studies te verantwoord. Hierdie verantwoording moet egter rekening hou met ’n tweede vakgebied, nóú verwant aan Middeleeuse studies, naamlik mediëvalistiek. Die onderskeid en samehang tussen hierdie twee vakgebiede is van wesenlike belang (sien Beukes 2021d:1–3).

Middeleeuse studies (in Engels medieval studies) sluit alle dissiplines in wat gemoeid is met die vertaling, ontleding en kritiese kommentariëring van tekste wat geskryf is vanaf ongeveer die vroeë vyfde eeu tot ongeveer die middel van die 15de eeu. Dit sluit in Middeleeuse argitektuur, kultuurgeskiedenis, filosofie, kuns, musikologie, sosiologie en teologie, asook manuskripredigering en vertalings van Middeleeuse tekste uit die tersaaklike tale, onder andere (Middeleeuse) Latyn, Arabies, Hebreeus, Grieks en die oud-Europese volkstale. Binne die raamwerk van hierdie groter vakgebied sluit studies in Middeleeuse seksualiteit in besonder by Middeleeuse kultuurgeskiedenis, filosofie, kuns en teologie aan.

Mediëvalistiek (in Engels medievalist studies) is self ’n betreklik jong ontwikkeling, onderskeibaar van, maar onlosmaaklik verbonde aan, Middeleeuse studies, en gerig op die genre-onafhanklike ontleding van post-Middeleeuse interpretasies van die Middeleeue. Mediëvalistiek is dus die studie van na-15de-eeuse interpretasies van die Middeleeue, ongeag die vorm of genre van die aanbod. Ten einde wanvoorstellinge ten opsigte van anakronismes, feitefoute, vertaalfoute en kultuurhistoriese mistastings uit te wys, is mediëvalistiek aangewese op die steeds primêre korrektiewe bron, naamlik Middeleeuse studies. By die evaluering van post-Middeleeuse interpretasies van die Middeleeue word vakkundige belesenheid in Middeleeuse studies dus vooronderstel. Mediëvalistieke ontledings is gevolglik tweedelig hermeneuties (die huidige leser beoordeel sowel die na-Middeleeuse skrywer se lesing van ’n Middeleeuse teks as die Middeleeuse teks self) en stel ander eise aan ’n eietydse leser as Middeleeuse studies (waar slégs die Middeleeuse teks ondersoek word), waaronder die verrekening van die betrokke na-Middeleeuse skrywer se historiese konteks en diskursiewe oogmerke. ’n Onlangse voorbeeld van ’n Middeleeuse studie in Afrikaans is Kobus Krüger (2020) se vertaling en vertolking van Dante Alighieri (1265–1321) se Purgatorio (Dante se mistieke reis – Tweede tog). Krüger lees en kommentarieer Dante se Middeleeuse teks as sodanig en lewer daarmee ’n gespesialiseerde bydrae wat vanselfsprekend in die vakgebied Middeleeuse studies hoort. Natuurlik het Krüger ook sekondêre Middeleeuse en na-Middeleeuse bronne geraadpleeg, maar dit doen nie afbreuk aan sy oogmerk om ’n oorspronklike lesing van Dante se primêre teks aan te bied nie.

Mediëvalistieke lesings is nie noodwendig minder gespesialiseerd nie, maar is hermeneuties meer gelade, omdat dit met ’n interpretasie van interpretasies (van interpretasies) werk. Voorbeelde van onlangse mediëvalistieke lesings in Afrikaans is my interpretasie van Martin Versfeld se interpretasie van die Middeleeue (Beukes 2022c:207–73) en Danie Goosen (2017:557–91) se interpretasie van ’n eietydse interpretasie van Pseudo-Dionisius (ca. 500) se metafisika in “Die metafisiese tradisie vandag – ’n interpretasie van Eric D. Perl”. Goosen, om hom as voorbeeld te mag gebruik, ontleed dus sowel die sonderlinge vroeë Middeleeuse Neoplatonis Pseudo-Dionisius as die uitgelese eietydse Middeleeuse navorser Eric Perl se interpretasie van Pseudo-Dionisius. Goosen se taak en bydrae moet dus van dié van Krüger onderskei word. Goosen dra as’t ware ’n dubbele hermeneutiese las: Om Perl se interpretasie verantwoordelik te kan ontleed, moet Goosen Pseudo-Dionisius se tekste by voorbaat goed ken. Goosen steun dus op die navorsing oor Pseudo-Dionisius in Middeleeuse filosofie (as ’n dissipline binne die vakgebiede geskiedenis van die filosofie en Middeleeuse studies) ten einde Perl se interpretasie toe te pas op sy (Goosen se) meer saaklike en inderdaad filosofiese bedoeling, naamlik om ’n eietydse standpunt oor die status van die Westerse metafisiese tradisie in te neem. Goosen staan daarom as’t ware in die snyding van twee sirkels: Die een sirkel omvat Pseudo-Dionisius, die ander Eric Perl (en terugwerkend al Perl se voorgangers in die lang lys van uitmuntende na-Middeleeuse eksegete van Pseudo-Dionisius se tekste). Hierdie mediëvalistieke snyding raak diskursief selfs meer gelade wanneer Goosen se lesing uiteindelik getoets word – dan sou Goosen se leser Pseudo-Dionisius, die na-Middeleeuse kommentaartradisie oor Pseudo-Dionisius, Perl, Goosen self én die Westerse metafisiese tradisie goed moet ken om Goosen se lesing te kan toets. Negatief-dialekties of dekonstruktief gestel: Goosen se leser sou besig moes wees met die argeologiese afskilfering van ’n hermeneutiese laagstelling, vanaf die Westerse metafisiese tradisie na Goosen na Perl na die kommentaartradisie oor Pseudo-Dionisius (en dit sluit nog nie die kommentaarontwikkeling binnedie Middeleeue self in nie, onder andere dié van Pseudo-Dionisius se eerste vertaler uit Grieks in Latyn, Johannes Skotus Eriugena [sien Beukes 2021h:1–13]), na Pseudo-Dionisius self. Gelukkig kan dit ook reguit dialekties of positief gestel word: Goosen se leser sou uiteindelik sélf besig wees met ’n lewendige rekonstruksie van die Westerse “metafisiese tradisie vandag”.

Dit is presies waar studies in Middeleeuse seksualiteit hoort: in hierdie komplekse dekonstruktief-rekonstruktiewe snyding van ’n Venn-diagram tussen Middeleeuse studies en mediëvalistiek. Studies in Middeleeuse seksualiteit behels sowel dekonstruksies as rekonstruksies van beskouinge oor seks in die Middeleeue. Daarom moet sowel die (verskuilde, sien 3.5) Middeleeuse bronne as die post-Middeleeuse weergawes daarvan (byvoorbeeld dié van Foucault) versigtig gelees word. Die taak van navorsers en skrywers oor Middeleeuse seksualiteit is sowel om uit te wys wat seks in die Middeleeue nié was nie (via Middeleeuse studies) as om na-Middeleeuse ontledings te toets vir wat dit wél was of sou kon gewees het (via mediëvalistiek). Anders gestel: Studies in Middeleeuse seksualiteit behels ’n dubbelspoor- Middeleeuse en na-Middeleeuse ontleding van opvattinge oor seks in die Middeleeuse kultuurlandskap en vooronderstel ’n greep op sowel die tersaaklike Middeleeuse ideëgeskiedenis as die tersaaklike na-Middeleeuse interpretasies daarvan. Die uitdaging is om hierdie dubbeltrajek te handhaaf en eietydse bydraes tot die bestudering van Middeleeuse seksualiteit grondig aan die histories verifieerbare bronne te hou. Met die afbakening van studies in Middeleeuse seksualiteit as ’n dissipline in die ruimte tussen die vakgebiede Middeleeuse studies en mediëvalistiek hiermee verantwoord, kan oorbeweeg word na vier dissiplinêre oorwegings, waarvan die eerste suiwer tematies is.

3.2 Die verrekening van ’n tweeliggaamsopvatting in Middeleeuse seksualiteit

Seks in die Middeleeue was veel meer, by wyse van spreke, ’n werkwoord as ’n selfstandige naamwoord. Juis as ’n handeling is seks verstaan in terme van die dinamika van twee streng onderskeide liggame, ongeag die gedeelde ervaring aan liggaamlike eenwording in seks, en bied ’n ander konseptuele raamwerk as dít waaraan die moderne verstaan van seks getoets word. Seks is vanuit hierdie tweeliggaamsopvatting in die Middeleeue verstaan as “dit wat ’n ander aangedoen word”, veral ten opsigte van penetrasie (vergelyk byvoorbeeld die elegante subtitel in Karras en Piermont [2023], Doing unto others). Die moderne scientia sexualis-beskrywing “om seks te hê” dui, teenoor die Middeleeuse opvatting, op die gelykwaardige en instemmende seksuele ervaring van twee juridiese subjekte. ’n Moderne subjek “het seks” met iemand wat aan bepaalde juridiese vereistes voldoen, onder meer ouderdom en toerekeningsvatbaarheid, wat dus wetlik daartoe (mag) instem om “seks te (mag) hê”. Selfs die private of “vulgêre” moderne seksuele woordeskat, in welke moderne taal ook al, gebruik woorde wat op sodanige wedersyds instemmende handeling dui en daarom geslagsonbepaald is. Die afwesigheid van hierdie wedersyds instemmende en juridiese verantwoording van die seksuele handeling sou in die moderne konteks moes dui op verkragting, of minstens onsedelike aanranding. Ten grondslag van hierdie scientia sexualis-opvatting lê die uitdruklike gelykwaardige instemming tot uiteenlopende seksueel-penetratiewe handelinge – byvoorbeeld oraal, vaginaal of anaal – teenoor die veel meer gestroopte Middeleeuse opvatting van seks as eenvoudig ’n aktiewe subjek se penetrasie van ’n passiewe subjek, of “die aandoening aan ’n ander”.

In scientia sexualis word die klem dus nie op penetrasie of aandoening geplaas nie, maar op gelykwaardige instemming: Die aktiewe subjek in die werkwoord foutre in moderne Frans of fuck in moderne Engels kan byvoorbeeld ewewel manlik of vroulik wees. Die Middeleeuse oud-Franse foutre en middel-Engelse swiven het egter uitdruklik “om te penetreer” of “steek” beteken (vandaar die vulgêre – en inderdaad gewelddadige – Afrikaanse woorde steek en naai, laasgenoemde regstreeks ontleen aan die Nederlandse naaien, wat natuurlik ’n andersins fatsoenlike woord in die Nederlandse tekstielbedryf is). Onwelvoeglik soos woorde soos foutre, fuck en naai op die moderne oor mag val, is die aktiewe subjek in scientia sexualis geslagsonbepaald. Ook ’n vrou word na die scientia sexualis-opvatting geag die aktiewe subjek te kan wees, ongeag die geslag van die ander party. Na die Middeleeuse opvatting kon foutre en swiven, veral concubere in Middeleeuse Latyn, egter slegs deur ’n man verrig word. Na die Middeleeuse verstaan van seks – juis as ’n handeling – doen die manlike liggaam ’n ander liggaam iets aan: Die aktiewe subjek in Middeleeuse seks was normaalweg manlik en daarom moes die opvatting van twee onderskeibare liggame met verskillende rolle en belewenisse streng gehandhaaf word (vgl. Karras en Piermont 2023:5–6).

Die perversiteit of teennatuurlikheid van ’n seksuele handeling is in die Middeleeue gevolglik nie getoets aan die stabiele penetrerende manlike subjek nie, maar aan die wisselvallige gepenetreerde subjek, hetsy vroulik of manlik, wat geag is bloot ’n passiewe funksie te vervul het. Die enigste uitsondering was die aktiewe vroulike subjek, ongeag die geslag van die passiewe subjek. Dit sluit uiteraard penetrasie in vroulike homoërotiese kontekste in. Maar daarby was die vrees om deur ’n vrou gepenetreer te word reeds sedert die Romeinse tyd in die Westerse manlike psige gevestig. Die selfs neurotiese angs by Romeinse vryburgers vir “radikale onderwerping” – om nie deur ’n man gepenetreer te word nie maar deur ’n vrou – is onder andere verwoord deur Seneca (4VAJ–65AJ) in sy Epistulae morales 95/20: “[...] vroue wat so ’n skaamtelose afwyking ontwerp het [dat hulle selfs] mans penetreer” ([...] adeo perversum commentae genus inpudicitiae viros ineunt [...]; (Seneca in Gummere red. 1925:VI:70; sien Hallet 1989:214). Seneca het hierdie aanwysing nie sonder rede ingevoeg nie. Die “ondenkbare” vroulike penetrasie van mans het inderdaad meer as sporadies plaasgevind – en die Romeinse neurose was dus nie sonder empiriese gronde nie (Hallett 1989:210). Presies waarom Romeinse mans meer lugtig sou wees vir penetrasie deur vroue as mans is binne die kenmerkende Grieks-Romeinse etisering en estetisering van manlike homoërotiek met onderklemtoon hanteer (sien Dodson 2017:355–65). Hierdie angs vir die wisseling van die aktiewe en passiewe rolle in seks het tot diep in die Middeleeue nawerking geniet, onder meer in Alanus van Lille (d. 1203) se bieghandleiding Liber Poenitentialis (sien Alanus van Lille 1191:4–7, 11–3, 26–31; Beukes 2022a:5–6), en benadruk die Middeleeuse aandrang op ’n streng onderskeid tussen die aktiewe (dus normaalweg manlike) en passiewe (normaalweg vroulike) rolle in seksuele kontekste. Hierdie streng onderskeid dui op seks as twee handelinge van twee liggame met radikaal uiteenlopende belewenisse. Die twee liggame is dus geag met volledig verskillende handelinge besig te wees. Dit beteken nie dat die handeling van die passiewe subjek ontdaan sou wees van seksuele plesier nie, maar die Augustynse nadruk op voortplantingsopset sou dan steeds voorop moes staan. Slegs in hierdie opsig was die andersins passiewe vroulike subjek wel in beheer: Mantelknope met uitbeeldings van vulvas wat deur falliese figure gedien word, was byvoorbeeld wyd in gebruik gedurende die 14de eeu (Ostkamp 2009:107–25; sien Figuur 1).

Figuur 1. Vulva en drie falliese draers. Mantelknoop uit Brugge, 1375–1435. Van Beuningen Kunstverzameling Rotterdam, I652 (digitaal onttrek uit Ostkamp 2009:120).

Om die konseptuele verplasing vanaf die moderne gelykheidsopvatting na die Middeleeuse tweeliggaamsopvatting te maak, stel ’n besondere uitdaging aan eietydse lesers. Die tweeliggaamsopvatting in die Middeleeue het dit byvoorbeeld moeilik gemaak om verkragting as ’n verskynsel van seksuele geweld (en nie bloot teensinnige seks nie) met erns te neem. Omdat vroulike orgasme gedurende die Middeleeue as ’n algemene voorwaarde vir vrugverwekking verstaan is, is swangerskap wat gevolg het op beweerde verkragting by verstek geag ’n bewys van die ongeldigheid van die klag te wees. Die moderne verstaan van verkragting dui op ’n penetratiewe, gewelddadige, nie-instemmende handeling op grond waarvan slegs die opset van die aktiewe subjek getoets behoort te word. Die Middeleeuse verstaan van verkragting vooronderstel egter twee onderskeie handelinge wat afsonderlik getoets moes word – die opset van die passiewe subjek is daarom algeheel afsonderlik verreken.

’n Ander voorbeeld van hierdie konseptuele verplasing is die breë nawerking van Aristoteles se liggaamsbeskouing onder sowel Middeleeuse Arabiese as Westerse natuurlike filosowe (nié “natuurfilosowe”16 nie – en eers vanaf die tweede helfte van die 14de eeu “natuurwetenskaplikes” genoem). Aristoteles se standpunt was dat daar slegs een outentieke geslag – manlik – is en dat die tweede geslag – vroulik – bloot ’n verswakte weergawe of afskynsel van die outentieke geslag is (vgl. Murray 2008:34–51). Hierdie standpunt is onder andere gebaseer op die (wel oordrewe) waarneming van anatomiese ooreenkomste tussen die klitoris en penis (vergelyk byvoorbeeld die gekroonde erekte klitoris in Figuur 1), en anatomiese verskille tussen die geslagte met betrekking tot onder meer die verhouding tussen lengte, liggaamsgewig en spierkrag. Hierdie binêre Aristoteliese teenoorstelling van die geslagte was ’n gegewe in Middeleeuse kontekste, en daarom ook sigbaar in die verstaan van seks as twee afsonderlike handelinge deur twee afsonderlike liggame. Enige afwyking van hierdie basiese teenoorstelling is geag ’n letterlike “afwyking” te wees, veral met verwysing na die status en posisie van androgene of andersins “manlike” vroue en niegeslagtelike (of eietyds: niebinêre) subjekte, wat nog tot in die 19de eeu bloot met die sambreelterm hermafrodiet aangedui is. Dit was ook eers in die latere Middeleeue dat die maatskaplike status van die hermafrodiet heroorweeg is, synde ’n subjek wat geag is oor sowel manlike as vroulike biologiese eienskappe te beskik en wat by mondigwording finaal oor die eie “geslagtelikheid” sou kon besluit (Oksala 2005:117; vgl. Foucault 1980:viii).

Per kantinskrywing kan benadruk word dat seks in die Middeleeue nie naastenby so belangrik geag is as in die moderne (veral in die na-Victoriaanse) periode nie. Hoewel enige vorm van buite-egtelike seks (luxuria) teologies as die hoogste doodsonde geag is, was die maatskaplike doodsonde eerder gula (vraatsug, of oordaad). Die bekroonde Middeleeuse spesialisnavorser Caroline Walker Bynum het in haar uitdagende Holy feast and holy fast (1987) oortuigend aangevoer dat waar die liggaam in scientia sexualis hoofsaaklik in terme van optimale seksuele verrigting verstaan word, die elementêre voeding van die liggaam in die Middeleeue veel swaarder geweeg het. Kos en drank het ’n swaarder simboliese lading as seks gedra, omdat die voorsiening en voorbereiding daarvan meer komplekse voorwaardes as dié van seksuele bevrediging gestel het. Skaarste, armoede en honger was deur geheel die Middeleeue vir gewone mense ’n daaglikse stryd. Die diskoers oor armoede was gevolglik veel meer prominent as die diskoers oor seks (sien Beukes 2022d:255–75). In die Middeleeue was die stil van liggaamlike honger – brute oorlewing – daagliks ’n uitdaging. Dit was eers wanneer ’n mens met oordaad kon eet en drink dat uiteindelik ook toegegee kon word aan die versadiging van seksuele honger. Dit is ook slegs in hierdie opsig dat die karikatuur van die wellustige Middeleeuse roesbanket wel stand hou. Juis om hierdie rede is die selibaat van monnike en nonne deur geheel die Middeleeue getoets aan die hand van gedetailleerde vasvoorskrifte. Die ware toets vir die beheer van seksuele honger was die onderwerping van die meer basiese honger na brood.

3.3 Die handhawing van die begrip Middeleeuse seksualiteit as ’n diensbare anakronisme

Indien Foucault se standpunt aanvaar word dat seksualiteit ’n “betreklik onlangse uitvinding” is, dui die begrip Middeleeuse seksualiteit regstreeks op ’n anakronisme. Nietemin is dit ’n diensbare anakronisme. Die onmiddellike voordeel van die handhawing van die begrip is dat dit moontlik is om met die gebruikmaking van scientia sexualis-terminologie die nuwe of moderne seksuele woordeskat oor seks in die Middeleeue te praat, sonder om die ou “vulgêre” woordeskat te moet gebruik - wat die enigste voorhande woordeskat in die Middeleeue was. Die nadeel is egter dat die versoeking spontaan aandoen om beskouinge oor seks in die Middeleeue deur ’n moderne lens te lees.

Ter voorbeeld: Waar ouderdom regstreeks met die vermoë tot instemming en toerekeningsvatbaarheid in scientia sexualis ooreenstem en ’n deurslaggewende rol ten opsigte van die regmatigheid en selfs die juridiese verantwoording van seksuele kontak speel – as sodanig verskans in onder meer die na-Middeleeuse Romeins-Hollandse familiereg en strafreg – het ouderdom geen rol in die Middeleeue gespeel nie. Die vermoë tot instemming en toerekeningsvatbaarheid is in die Middeleeue eenvoudig liggaamlik getoets. Die seksuele aandoening van ’n prepuberteitse kind is wel deurgaans as ’n vorm van sodomie beskou, soortgelyk aan wat later in die Romeins-Hollandse reg met uitdruklike ouderdomsverwysings as statutêre verkragting sou geld. Vir postpuberteitse kinders was dit egter nie ouderdom nie, maar bloot “natuur” of “liggaamlike volwassenheid”, juis met verwysing na die voltrekking van puberteit, wat as aanwyser vir seksuele volwassenheid gedien het: by meisies of jong vrouens duidelike bewyse van menstruasie en die aanwesigheid van skaamhare (pubes, vandaar puberteit) op die vulva en mons pubis; by seuns of jong mans presies dieselfde met verwysing na die pubes, met daarby die waarneembare vermoë tot ereksie en ejakulasie. Hoe digter en meer sigbaar die pubes, hoe meer seksueel volwasse en trouens viriel is die jong persoon geag te wees. Die begrip seksueel volwasse is in die Middeleeue dus suiwer empiries beskryf en sonder die latere juridiese klem op ouderdom ten opsigte van toerekeningsvatbaarheid en die geldige vermoë tot instemming verstaan. Dit was trouens algemeen dat meisies so jonk as 12 in die huwelik (normaalweg vooraf tussen families gereël en juis met veel ouer mans) verbind is, mits hulle liggaamlik aan bogenoemde empiriese puberteitsvereistes voldoen het. Dit wat in scientia sexualis (tereg) as pedofilie geld, juis óók ten opsigte van seksuele kontak met ’n postpuberteitse kind, was dus algeheel afwesig in die Middeleeue. Nogeens: Waar seks ’n “werkwoord” is, is seksualiteit ’n selfstandige naamwoord; waar ook al seks liggaamlik verskyn, doem seksualiteit kultureel op (vgl. Halperin 1989:257).

Die eietydse uitdaging is om hierdie kulturele bepaaldheid van Middeleeuse seksualiteit konsekwent te handhaaf. Dit geld ook vir die meervoudigheid van seksualiteite wat later deur scientia sexualis bevorder is. In die Middeleeue was daar byvoorbeeld geen “homoseksuele” en “heteroseksuele” nie. Hierdie begrippe het eenvoudig nie bestaan nie. Daar was wel mans wat ander mans en vroue wat ander vroue in sommige sfere van sowel die private as die openbare lewe verkies het, maar hulle is, teen die agtergrond van die elementêre binêre teenoorstelling van die geslagte in die Middeleeue, bloot as “afwykend” verstaan (Foucault 1978:43). Vandaar Foucault (1976:43) se beroemde stelling: “[In die Middeleeue] was die sodomiet bloot ’n sondaar, nou is die homoseksueel ’n spesie.”17 Middeleeuse seksualiteit is wel ’n diensbare term of begrip om die werklikheid dat die identiteit van Middeleeuse subjekte ten nouste met hulle seksuele voorkeure – “natuurlik” of “teennatuurlik” – saamgehang het, te ondervang. Die anakronistiese term Middeleeuse seksualiteit kan dus gehandhaaf word, mits die vele kulturele verskille tussen moderne scientia sexualis en Middeleeuse seksualiteit nougeset verreken word.

3.4 Die kritiese bestryding van seksuele mediëvalismes

Mediëvalismes sou beskryf kon word as post-Middeleeuse, ideologies-reduksionistiese en anakronistiese rekonstruksies van die Middeleeue, waarvolgens die Middeleeue deur die verselfstandiging van een of meer nienoodsaaklike toevallighede met gevolglike karikatuurstelling en ’n vals geheelaanspraak aangebied word. Mediëvalismes is in die retrospektiewe en per definisie anakronistiese aard daarvan dinamies en wisselend: Die soort mediëvalismes wat in die Renaissance aangetref word, verskil dus van weergawes in vroeë moderniteit (die 16de en 17de eeu), moderniteit (die 18de tot die eerste helfte van die 20ste eeu) en laatmoderniteit (die tweede helfte van die 20ste eeu en die 21ste eeu). In elkeen van hierdie periodes vind ’n unieke verselfstandiging van toevallige elemente in die Middeleeuse ideë- en institusiegeskiedenis plaas, op grond waarvan ’n idiosinkratiese (oorwegend foutiewe) beeld van die Middeleeue aangedien word. Pejoratiewe, patroniserende en inderdaad vals karikature van die Middeleeue (na tipiese Renaissance-mediëvalismes byvoorbeeld “in die middel”, “donker” en “wreed”, of na tipiese 19de-eeuse mediëvalismes byvoorbeeld “eerliker”, “ridderlik”, “maagdelik” en “geestelik”) gaan telkens terug op die een of ander onverantwoorde mediëvalistiese lengtesnit.

Afgesien van die kompleksiteit verbonde aan die verhouding tussen primêre tekste (dus in Middeleeuse studies) en sekondêre tekste (dus in mediëvalistiek), en die hermeneutiese draagwydte van die diskursiewe potensiaal opgesluit in laasgenoemde, moet ineens toegegee word dat die begrip Middeleeue vanweë die histories-gekonsentreerde geladenheid daarvan niks meer as ’n uitwegbegrip is nie. Die Middeleeue, selde ’n neutrale begrip, dui immers op uiteenlopende perspektiewe vanuit diverse kulturele, maatskaplike, godsdienstige, demografiese, etniese, linguistiese en ekonomiese ontwikkelinge, versprei oor ’n tydperk van meer as 1 000 jaar. Daarby is die konseptuele verhouding tussen die Middeleeue en moderniteit, bemiddel deur die Italiaanse Renaissance, voortdurend onderworpe aan wysiging en verandering, juis wanneer die Middeleeue vanuit ’n na-Middeleeuse konteks opgeroep word. Ook verwys die term Middeleeue geruime tyd nie meer na die uitsluitlik Latyns-Westerse konteks nie. Die aanspraak van onder meer die “Middeleeuse Oosterse Ander” (sien Beukes 2018a, 2018b) en die toepaslikheid van die term Middeleeue op historiese periodes en ontwikkelinge in nie-Europese kontekste tussen die vyfde en 15de eeue staan voorop in die eietydse Middeleeuse spesialisnavorsing.

’n Goeie voorbeeld van ’n tipiese eietydse mediëvalisme is sogenaamde neomediëvalisme. Dié neologisme sou onder andere kon dui op die 21ste-eeuse neokonserwatiewe verband met politieke mediëvalismes, wat geblyk het ’n dodelike kombinasie te wees (sien Beukes 2021d:7). Donald Rumsfeld (die destydse minister van verdediging van die VSA, 2001–2006) en die destydse president van die VSA, George W. Bush, se kru politieke mediëvalismes kan teruggevind word in hulle herhaalde en selfregverdigende verwysings na die Tweede Irakese Oorlog (2003–2011) as ’n “Middeleeuse kruistog”, en die regstreekse tipering van “The War on Terror” as ’n “kruisvaart”. Rumsfeld (in Holsinger 2007:52) het onder meer beweer dat die “vyand” (sonder enige nuanse of aanvoeling vir die onderskeid tussen onder meer Sjia- en Soenni-Islam) “reeds vanaf die Middeleeue die vermoë gehad het om te vermeng en aan te pas in vreemde kulture, vinnig oor grense te beweeg, aan te val en dan weg te kruip”. “Middeleeuse Islam”, na Rumsfeld se politieke mediëvalistiese jargon, was “vir alle praktiese doeleindes ’n transnasionale terreurorganisasie wat reeds vanaf die Middeleeue ’n veelheid van metodes gebruik het om terreur te saai” (Rumsfeld in Holsinger 2007:52). In ’n boeiende mediëvalistieke en ideologiekritiese lesing ontbloot Bruce Holsinger in sy Neomedievalism, neoconservatism, and the war on terror (2007) nie alleen die geweldstigtende aard van hierdie kombinasie van neokonserwatisme en politieke mediëvalismes nie; hy dui ook duidelik aan hoe hierdie besondere vergestalting van neomediëvalisme as ’n spesifieke intellektuele meganisme binne die neokonserwatiewe politieke diskoers na 2001 ontplooi is (sien Holsinger 2007:82). Trouens, die Amerikaanse neokonserwatiewe politieke beleid is aangepas om by die voeë van hierdie neomediëvalisme in te val – en nie andersom nie. Hierdie neomediëvalisme is dus nie geplooi om by politieke beleid aan te pas nie – trouens, dit is só effektief ingespan dat die politieke beleid vanaf 2003 tot 2011 (steeds na Rumsfeld se bedanking in 2006) naspeurbaar daarop geskoei is (vgl. Holsinger 2007:82–90).

Die voormalige (2010–2016) Britse premier David Cameron se tipering van die terreurorganisasie Islamitiese Staat (IS) se gewelddadige modus operandi, wat openbare onthoofdings en verkragtings ingesluit het, as “letterlik Middeleeus in karakter” en sy beskrywing van lede van IS as “Middeleeuse monsters” (in Elliott 2017:195) is wel nie neomediëvalisties nie (Cameron was immers geen neokonserwatief soos Bush of Rumsfeld nie), maar steeds ’n kras stereotipering van die Middeleeue as ’n epog waartydens buitensporige geweld oral en altyd gegeld het as ’n middel om politieke geskille te besleg en kulturele terreur te regverdig (vgl. Harvey 2021:7). Die werklikheid is natuurlik dat die Middeleeue nie méér gewelddadig as enige ander epog in die geskiedenis was nie: Geen era was tog in terme van die brute omvang van menslike en niemenslike lewensverlies so gewelddadig as die 20ste eeu nie.

Die kritiese verset teen eietydse mediëvalismes, soos tot uitdrukking gebring in neomediëvalisme en dié se grondliggende politieke mediëvalismes, sou ook vir die kritiese bestryding van seksuele mediëvalismes kon geld. Karikature van gewelddadige seks in die Middeleeue lê wydverspreid in die eietydse vermaaklikheidsbedryf. Hiervan is die uitdagende (dalk eerder potsierlike) sekstonele in ’n aweregse verhaal wat die Middeleeue kennelik probeer naboots, die agt seisoen lange televisiereeks (73 episodes) Game of thrones (HBO 2011–2019), gebaseer op die vyfvolumefiksiereeks A song of ice and fire deur George R.R. Martin (1996–2011), ’n goeie voorbeeld. Teen die sesde seisoen het die gemiddelde kykerstal per direkte uitsending van Game of thrones 25 miljoen per episode beloop, terwyl die vyf bande van A song of ice and fire in 47 tale vertaal en reeds meer as 90 miljoen eksemplare verkoop het (Shepherd 2016:1). Martin verantwoord die funksionaliteit van die vele verwysings na seksuele geweld in hierdie buitengewoon gewilde reeks deur dit blatant so te stel: “Ek het nie eietydse seks in gedagte gehad nie, maar Middeleeuse seks” (aangehaal deur Harvey 2021:7, 231; sien Carroll 2018:85–106, 140–84; vgl. Gebhardt 2015:197–214). Ten grondslag van hierdie bedenklike regverdiging is die opvatting dat die Middeleeue ’n epog verteenwoordig waarin verkragting endemies, bloedskande onmerkwaardig en homoseksualiteit ondenkbaar was (vgl. Harvey 2021:8). Feitlik elke vroulike karakter in die reeks word op ’n stadium onsedelik aangerand of verkrag, terwyl die gay karakter Loras Tyrell uiteindelik tereggestel word vir sodomie (met regstreekse verwysing na buggerie, na die parlementêre Buggery Act van 1533, wat geen onderskeid getref het tussen [ook heteroseksuele] anale seks en bestialiteit nie).

Braveheart (1995) staan op dieselfde seksueel-mediëvalistiese trajek as Game of thrones. Ook in dié bekroonde rolprent (’n wenner van vyf Academy-toekennings, waaronder Beste film), word Middeleeuse seksualiteit nogeens as vreemd en gewelddadig aangebied, versterk deur die hardnekkige seksuele mediëvalisme van ’n Middeleeuse feodale leenheer wat per staande gebruik daarop geregtig sou wees om ’n jong bruid in sy vasal op haar huweliksnag te ontmaagd (die sogenaamde ius primae noctis, beter bekend in Frans as droit de seigneur of droit de cuissage). Daar bestaan geen histories verifieerbare bewyse dat ius primae noctis ooit ’n gevestigde praktyk in die Middeleeue was nie (sien Boureau 1998:1–11). Nietemin is hierdie mediëvalisme vanaf die 17de eeu wyd gepropageer, opvallend ook in Wolfgang Amadeus Mozart se Le nozze di Figaro (1786). Wat hoogstens ’n historiese kontingensie was, is hiermee – eie aan die aard van mediëvalismes – opgevorder tot dié soort geheelaanspraak wat slegs ’n karikatuur kan vermag. In Braveheart (sien Sharp 1998:251–66; vgl. Harvey 2021:8, 231) word die Skotse verset teen die Engelse koningshuis verhewig deur die besluit van koning Edward I (1239–1307) om ius primae noctis noord van Engeland in te voer. Hierdie (dus fiktiewe) reg is luidens die verhaal deur die Engelse bevelvoerders in Skotland (as ’n vasalstaat van Engeland) verwelkom en het regstreeks tot die gewelddadige dood van die Skotse ridder en versetleier William Wallace (d. 1305) se jong eggenote gelei. Afgesien van vele ander karikature in die verhaal (die gewaande wesenlike verskille tussen die brutale, lafhartige Engelse en die aardse, edele Skotte, Edward I se skynbaar “tipies Middeleeuse” bloedskandelike begeerte vir sy skoondogter Isabella en die stereotipiese uitbeelding van haar gay man, prins Edward II, as verfynd, promisku en besluiteloos) berus die volle verhaallyn op die premisse dat seks in die Middeleeue grondig afwykend was.

Daar bestaan vele soortgelyke voorbeelde van seksuele mediëvalismes oor verskillende genres heen in eietydse vermaaklikheidskultusse. Die punt is dat studies in Middeleeuse seksualiteit, gebed in die snyding tussen Middeleeuse studies en mediëvalistiek, die opgaaf het om hierdie soort mediëvalismes krities te bestry. Toegerus met die navorsingsresultate vanuit Middeleeuse studies en die genre-onafhanklike, ideologiekritiese vermoë van mediëvalistiek, behoort studies in Middeleeuse seksualiteit die verantwoordelikheid op te neem om ten minste aan te dui wat seks in die Middeleeue nié was nie. Hierdie oorweging verskaf aan studies in Middeleeuse seksualiteit ’n aktualiteitsprofiel wat eietyds deeglik ontgin behoort te word.

3.5 Die komplekse ontginning van die verskuilde Middeleeuse bronne

Foucault was ook in hierdie opsig reg: Soos in die Victoriaanse periode was seks in die Middeleeue nêrens nie – en oral. Seks was “nêrens”, in die sin dat daar nie openlik oor seks gepraat en geskryf is nie (verhalende literatuur en dagboekinskrywings het in hierdie opsig dus geen nut nie) – maar ook “oral”, in die sin dat konstant nagedink is oor seks, veral in terme van die kerklik-juridiese verbod daarop en die maatskaplike regulering daarvan. Die bronne vir Middeleeuse seksualiteit sou dus hoofsaaklik in dié bronne van verbod en regulering gesoek moes word. Dit geld onder meer vir kerklike bieghandleidings, mediese voorskrifte en juridiese bepalings. Anders as in die na-Victoriaanse periode, waarin seks oral sigbaar en die bronne vir moderne seksualiteit dus onmiddellik voorhande is, is die bronne vir Middeleeuse seksualiteit verskuild. Die ontginning van hierdie bronne is gevolglik kompleks: Eers moet die tersaaklike dokumente (dikwels in ongeredigeerde manuskripformaat) geïdentifiseer, geredigeer en vertaal word, waarna ’n sistematiese ontleding van die voorskrifte en bepalings ondersoek kan word, veral in terme van die samehang daarvan met die reeds geïdentifiseerde, geredigeerde en vertaalde bronne. Die perspektief op Middeleeuse seksualiteit is vanuit hierdie bronne daarom per definisie beperk – dit verleen slegs toegang tot Middeleeuse kerklike ampsdraers, geneeskundiges en kanonieke regsgeleerdes se standpunte oor seks en seksuele gedrag. Gewone mense se beskouinge oor seks lê êrens agter hierdie amptelike teologiese, mediese en juridiese standpunte, en sou hoogstens afgelei kon word vanuit die polemiese aard daarvan (vgl. Murray 1981:275–322).

Ter voorbeeld: ’n Onlangse ondersoek dui aan dat Middeleeuse bieghandleidings (die Summae confessorum) op grond van die 21ste dekreet (Omnis utriusque sexus) van die notule van die Vierde Lateraanse Konsilie van 121518 toenemend gespesialiseerd geraak het in die aandrang op die spesifisering van seksuele besonderhede (sien Beukes 2022a).19 Die tersaaklike kerklike (en gevolglik maatskaplike) opdrag was bedrieglik eenvoudig: Elke sakramentsverpligte lidmaat van die kerk moes voortaan minstens een maal per jaar formeel by ’n konfessor (normaalweg ’n geordende priester) bieg, terwyl konfessors aan die hand van tydgenootlike bieghandleidings behoorlik toegerus moes wees om die bieg korrek (dit is, met die oog op die moontlike absolusie of kerklike kwytskelding van dít wat gebieg is) af te neem. So oënskynlik eenvoudig as wat hierdie opdrag tot die jaarlikse gesakramentaliseerde biegaflegging was, het die Summae confessorum betreklik vinnig in tegniese tekste ontwikkel wat sowel filosofies oor die bieg gespekuleer het as praktiese riglyne vir die liturgies korrekte afneem daarvan verskaf het (sien Payer 1984a:1–13). Die enigste verklaring vir hierdie verhoogde aandrang op besonderhede in die vroeë 13de eeu is dat eksperimentele seks of algemene promiskuïteit vanaf die laat 12de eeu toegeneem het. Dit geld veral vir “teennatuurlike” seks. Die kerklike definisie vir “natuurlike” (of “rasionele”) seks was reeds teen die middel van die 11de eeu goed bekend, en enige afwyking daarvan moes in die bieg verklaar word (vgl. Foucault 1976:18, 58): “Natuurlike” of “rasionele” geslagsgemeenskap kon plaasvind 1) slegs tussen ’n volwasse man en ’n volwasse vrou (met inbegrip van die empiriese vasstelling van seksuele volwassenheid soos in 3.3 bespreek); 2) slegs binne die huwelik; 3) daarby slegs met die oogmerk van opsetlike vrugverwekking; 4) met geen ejakulasie buite die vagina nie (oftewel onanisme [vgl. Foucault 1976:30], op grond van hierdie uitdruklike oogmerk tot voortplanting); 5) met geen gesig- of oogkontak nie (vaginale toegang dus van agter, of met die vrou se gesig buite sig); 6) met slegs genitaal-genitale en geen oraal-genitale of genitaal-anale kontak nie. Daarby is masturbasie, manlik en vroulik, wedersyds of solitêr (mollities), reeds vanaf die 10de eeu gereken as ’n ernstige sonde wat in ’n buitengewone afsonderlike bieg, naas die verpligte jaarlikse bieg, hanteer moes word (vgl. Foucault 1976:28, 42).

Die bieghandeling – die selfstandige verwoording van die veronderstelde wandaad deur die biegsubjek – moes nou deur herhaalde ondervragings verskerp word om elke besonderheid aangaande die veronderstelde wandaad te openbaar. ’n Eenmalige bieg is na 1215 dus nie sonder meer as toereikend geag nie. Dit was byvoorbeeld nie langer voldoende om ’n seksuele oortreding bloot te erken nie; alle tersaaklike inligting aangaande die oortreding moes aan die konfessor verskaf word om vas te stel presies watter sonde hiermee sou ooreengestem het (byvoorbeeld in die geval van ’n seksuele oortreding met ’n getroude persoon “owerspel”, of in die geval van [ook vroulike] selfdegeslagseks, “sodomie”20), en of absolusie gevolglik verleen sou kon word vir die betrokke oortreding. Selfs die (aktiewe of andersins passiewe) seksuele posisie wat ingeneem is tydens die betrokke seksuele ontmoeting moes verklaar word ten einde die “verhoogde teennatuurlikheid” al dan nie daarvan vas te stel. Die bieg was formeel afgehandel eers wanneer absolusie vir die betrokke wandaad verleen is – of juis nié (sien Payer 1984b:340–50).

Na 1215 was daar ook deurlopend kommer dat die gedetailleerde aard van die ondervraging tydens die bieghandeling tot seksuele opwekking by sowel die konfessor as die biegsubjek kon lei; die konfessor dring immers aan op die fynste besonderhede, terwyl die biegsubjek die betrokke gebeurtenis as’t ware herleef. Boonop moes sowel die selfstandige verwoording deur die biegsubjek as die ondervraging deur die konfessor onvermydelik geskied in die robuuste Middeleeuse seksuele woordeskat, wat ongetwyfeld vulgêr op die moderne oor sou val. Omdat die bieg toenemend gerig was op besonderhede, raak bieghandleidings vanuit die periode na 1215 gevolglik sélf toenemend gedetailleerd ten opsigte van presies watter vrae gestel sou kon word, watter woorde of frases sover moontlik vermy moes word, wat die grense van die konfessor se interpretasie van die biegsubjek se spesifieke woorde sou kon wees, en wat die minimum fisiese skeiding van die konfessor en die biegsubjek sou moes behels (sien Payer 1991:126–44). Die reeds vermelde Alanus van Lille se Liber Poenitentialis (1191; sien De Libera 1987:437–69), en daarby Robert Grosseteste (ca. 1168–1253) se De modo confitendi et paenitentias iniungendi (sien Goering en Mantello 1987:90–9), Willem van Auvergne (ca. 1180–1249) se Poenitentia (ca. 1230; sien Glorieux 1948:551–65) en Paulus Hungarus (ca. 1180–1241) se De confessione (1221) is goeie voorbeelde van hierdie toenemende aandag aan besonderhede in die Summae confessorum vanaf die vroeë 13de eeu.

Alanus van Lille (sien Beukes 2022a:2–4) gebruik sewe gestandaardiseerde21 Aristoteliese retoriese vrae of topoi om konfessors se ondervraging van biegsubjekte met presisie te orden: quis (wie?), quid (wat?), per quos (deur wie?), quotiens (hoe gereeld?), cur (waarom?), quomodo (hoe?) en quando (wanneer?). Hiervolgens sou die konfessor se vrae ten opsigte van die bieg van ’n seksuele oortreding só kon lui: Wie is jy en wie was (die ander persoon of persone) by hierdie ontmoeting betrokke? Presies wat het julle gedoen? Deur wie is die inisiatief geneem? Hoe gereeld of hoeveel keer het dit gebeur? Waarom het jy dit gedoen? Presies hoe het julle dit gedoen? (Die “soort” seks is in hierdie deel van die ondervraging dus as wesenlik belangrik geag.) Presies wanneer het hierdie ontmoeting(s) plaasgevind? Hierdie vrae is op geen ander wyse gerig nie en kon op geen ander wyse beantwoord word as deur middel van die ou seksuele woordeskat nie.

Soos vir Alanus was die verrekening van die konteks of omstandighede vir Grosseteste belangrik in die bepaling van die erns van die betrokke sonde en die moontlikheid tot absolusie. Die konteks sou dus die moontlikheid tot absolusie kon medebepaal – tot presies watter mate is wat Grosseteste in sy De modo probeer naspeur. Grosseteste (in Goering en Mantello 1987:90–9) karteer die syns insiens kontekstuele middeweg tussen die “innerlike berou” (contritio cordis), die selfstandige verwoording daarvan in die bieg (confessio oris) en die blykgewing van skuld deur goeie dade (satisfactio operis). Waar die Summae confessorum die “soort seks” en die “soort sonde” eksplisiet met mekaar verbind het, sonder om enige betekenisvolle ruimte vir die selfstandige oordeel van die konfessor ten opsigte van absolusie te laat, betoog Grosseteste (sien Payer 1984b:340–5) vir die nieletterlike interpretasie van die voorskrifte in die Summae confessorum en die daadwerklike verruiming van die konfessor se oordeel in dié verband. Natuurlik sluit dit aan by Alanus se hermeneutiese aksent op die bieg – maar Grosseteste neem die diskresie van die konfessor veel verder as slegs “betrokke deelname aan die bieg”. Wanneer die konfessor se oordeel ten opsigte van die verlening van absolusie vertrou word, kan die Summae confessorum dinamies geïnterpreteer word sónder om die voorskrifte daarin bloot staties te handhaaf.

In sy Poenitentia, geskryf rondom die 1230’s tydens sy dienstermyn as biskop van Parys (vgl. Glorieux 1948:551–65), betoog Willem van Auvergne eerstens dat seksuele oortredings, syns insiens korrek gereguleer deur die Summae confessorum, tydens die bieg in besonderhede verwoord moet word omdat seks die een sonde is waarby per definisie meer as een persoon betrek is of betrek sou moes word – dus is sowel die Self as die Ander se belange op die spel in ’n waarheidsgetroue bieg (si dicat peccator, domine vigilans naturam meam pollui; sien Glorieux 1948:565). Die invloed van die Sinode van Angers (1217) op Auvergne se interpretasie van die bieg as effektief dubbelsnydend na die Self en die Ander is duidelik: Dit is slegs binne die huwelik waar die Ander se belange nié noodwendig deur seksuele kontak ondermyn word nie. Daarom kan slegs seks binne die huwelik eerbaar onder die bieg verwoord word en behoort dit by verstek in aanmerking te kom vir absolusie. (“Buite die sakrament van die huwelik moet dit gestel word dat elke willekeurige storting van semen ’n dodelike sonde vir sowel die man as die vrou daarby betrokke is, tensy die seksuele eenwording wel verantwoord kan word deur ’n wettige huwelik – en tog moet eenwording binne die huwelik self steeds verantwoord kan word as fatsoenlik van aard” [uit die notule van die Sinode van Angers; sien Payer 1984a:52; vgl. Payer 1991:134].) “Fatsoenlike” seks binne die huwelik – dit sou op Augustinus se vroeë Middeleeuse spoor seks met ’n uitdruklike voortplantingsopset moes wees – is dus vir Auvergne binne die gees en stemming van die besluite van die Sinode van Angers die voorwaarde vir die verantwoordbaarheid van seksuele kontak in die algemeen – en die verantwoording van seks binne die konteks van die bieg in die besonder.

Tematies aansluitend by Auvergne se Poenitentia, maar uniek aan Paulus Hungarus se De confessione, is dat hy veel wyer voorsiening maak vir die verantwoordbare uitwoed van seksuele begeerte binne die huwelik as wat Auvergne bereid sou wees om toe te gee: Naas Auvergne se primêre Augustynse fokus op vrugverwekking maak Hungarus uitdruklik voorsiening vir drie ander syns insiens geldige redes vir seks binne die huwelik, naamlik die “vereffening van huwelikskuld” (met verwysing na die Pauliniese “huweliksplig”, soos verwoord in 1 Korintiërs 7:3–5);22 (liggaamlike) gesondheid; en inderdaad elementêre seksuele bevrediging (sien Beukes 2022a:8–9).

In al vier hierdie voorbeelde van 13de-eeuse bieghandleidings staan besonderhede en die nougesette dokumentering van biegsubjekte se seksuele ervarings voorop. In hierdie sin was Foucault nogeens reg: Dié soort handleidings is die ideale (hoewel in terme van skopus en perspektief steeds beperkte) bronne vir Middeleeuse seksualiteit. Nietemin is die ontginning van hierdie (soort) bronne kompleks, omdat dit induktief van aard is: Vanuit die besondere regulerende voorskrifte vir seks in die Middeleeue moet desnoods algemene afleidings rakende Middeleeuse seksualiteit gemaak word. Dieselfde induktiewe metode sou ook gebruik moes word in die ontleding van mediese voorskrifte en juridiese bepalings wat na die intensiewe regulering van seks in die Middeleeue verwys. Hierdie histories-induktiewe afleidings stel die hoë historiografiese kriterium om samehange tussen die individuele bronne uit te wys ten einde tot ’n algemene gevolgtrekking te kan kom. Die identifisering, redigering en vertaling van die verskuilde bronne in manuskripformaat dra aansienlik by tot die kompleksiteit van hierdie onderneming. Studies in Middeleeuse seksualiteit stel duidelik hoë eise, maar juis daarom is dit so ’n belowende en vervullende veld vir navorsers wat bereid is om aan daardie eise te voldoen.

 

4. Samevatting

Hierdie artikel het studies in Middeleeuse seksualiteit as ’n dissipline binne die vakgebiede Middeleeuse studies en mediëvalistiek begrond en verantwoord. Na ’n oorsig van die invloed van die eerste en vierde bande van Foucault se Histoire de la sexualité is vyf dissiplinêre oorwegings, gebaseer op temas van konsensus in die bestaande navorsing, met die oog op ’n werkbare en volhoubare navorsingsregister van studies in Middeleeuse seksualiteit aangebied. Mag die verrekening van hierdie oorwegings die voortgesette ontwikkeling van dié jong dissipline – steeds op Foucault se spoor – wel ten goede kom.

 

Bibliografie

Adams, J.N. 1982. The Latin sexual vocabulary. Londen: Duckworth.

Alanus van Lille. 1191 (1913). Liber Poenitentialis. La tradition longue. Texte inédit publié en annoté. J. Longère (red.). Leuven: Analecta mediaevalia Namurcensia.

Beukes, J. 2018a. Die Arabiese trajek in die Karolingiese periode in Middeleeuse filosofie. LitNet Akademies,15(3):502–64. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2018/12/LitNet_Akademies_15-3_Beukes_502-564.pdf.

—. 2018b. Die Arabiese trajek in die post-Karolingiese periode in Middeleeuse filosofie. LitNet Akademies,15(3):565–626. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2018/12/LitNet_Akademies_15-3_Beukes_565-626.pdf.

—. 2019a. “Foucault se sodomiet”: Damianus se Liber gomorrhianus (1049) heropen. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 75(4):1–13. https://doi.org/10.4102/hts.v75i4.5216.

2019b. Hildegard von Bingen as ’n 12de-eeuse filosoof-teoloog. LitNet Akademies, 16(1):64–102. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2019/06/LitNet_Akademies_16-1_Beukes_64-102.pdf.

—. 2020a. Histoire de la sexualité 4” (Les aveux de la chair): Aantekeninge vanuit die Nederlandse Foucault-navorsing. Verbum et Ecclesia, 41(1):1–14. https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2078.

—. 2020b. Intervroulike seksualiteit in die latere Middeleeue: ’n deëhistoriese oorsig. Verbum et Ecclesia, 41(1):1–13. https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2074.

—. 2020c. Die eliminering van die siel in die filosofiese mistiek en negatiewe teologie van die begyn Marguerite Porete (1250–1310). LitNet Akademies, 17(2):200–25. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2020/09/LitNet_Akademies_17-2_Beukes_204-229.pdf.

—. 2020d. The Trinitarian and Christological Minnemystik of the Flemish beguine Hadewijch of Antwerp (fl. 1240). HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 76(1), Art. 5865:1–10. https://doi.org/10.4102/hts.v76i1.5865.

—. 2021a. Augustinus en vroulike homoërotiek in die vroeë Middeleeue: ’n Foucaultiaans-historiografiese interpretasie. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 77(4):1–12. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6880.

—. 2021b. Raptus en die “vorm van die wil”: ’n transgressiewe lesing van Foucault se Augustinus-interpretasie in Les aveux de la chair. Verbum et Ecclesia, 42(1):1–15. https://doi.org/10.4102/ve.v42i1.2310.

—. 2021c. Die ontwikkeling en komplekse samehange van die huidige vier bande van Foucault se Histoire de la sexualité. Tydskrif vir Geesteswetenskappe,61(4/2):1287–310. https://doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n4-2a4.

—. 2021d. Middeleeuse studies, mediëvalistiek en mediëvalisme: kritiese onderskeide en samehange. Verbum et Ecclesia, 42(1):1–8. https://doi.org/10.4102/ve.v42i1.2236.

—. 2021e. Michel Foucault on Methodius of Olympus (d.ca. 311) in Les aveux de la chair: Patrick Vandermeersch’s analysis contextualised. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 77(4):1–12. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6912.

—. 2021f. Liggaamsfragmentering in sentraal-Middeleeuse vroulike mistiek. LitNet Akademies, 18(2):200–36. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2021/08/LitNet_Akademies_18-2_Beukes_200-236.pdf.

—. 2021g. Die “vyf trane” as mistieke uitdrukking in die Dialoë van die Dominikaanse non Katharina van Siëna (1347–1380). HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 77(4):1–9. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6553.

—. 2021h. The 50-year jubileum of the Society for the Promotion of Eriugenian Studies in the John Scottus Eriugena (815–877) research, 1970–2020. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 77(4):1–13. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6456.

—. 2022a. Die “bekentenisse van die vlees” in die sentrale Middeleeue: ’n verruiming van Foucault se lesing in Histoire de la sexualité 1 (La volonté de savoir). HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 78(4):1–10. https://doi.org/10.4102/hts.v78i4.7216.

—. 2022b. Die mediëvalistiese karikatuur van seksuele verval in Laat-Middeleeuse vrouekloosters. Verbum et Ecclesia, 43(1), Art. #2415:1–10. https://doi.org/10.4102/ve.v43i1.2415.

—. 2022c. Martin Versfeld (1909–1995) se interpretasie en toepassing van Middeleeuse filosofie aan die Universiteit van Kaapstad (1937–1972), Deel 1 en Deel 2. LitNet Akademies, 19(3):207–73. https://doi.org/10.56273/1995-5928/2022/j19n3b6.

—. 2022d. Die diskoers oor armoede in die sentrale en latere Middeleeue. Tydskrif vir Geesteswetenskappe,62(2):255–75. http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_abstract&pid=S0041-47512022000200002.

—. 2023a. The current four volumes of Michel Foucault’s Histoire de la sexualité: A review of the state of research, 2022. Acta Academica,55(1):125-45. https://journals.ufs.ac.za/index.php/aa/article/view/6493/4814.

—. 2023b. Foucault, die “beroepshistorici” en die Middeleeue: Augustinus in Histoire de la sexualité 4 (Les aveux de la chair) as gevallestudie. LitNet Akademies, 20(2):89–122. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2023/09/LitNet_Akademies_j20n2b4_Beukes.pdf.

Bitel, L.M. en F. Lifschitz (reds.). 2008. Gender and Christianity in medieval Europe: new perspectives. Philadelphia: University of Pennsylvania Press.

Boureau, A. 1998. The lord’s first night: the myth of the droit de cuissage. L. Cochrane (vert.). Chicago: Chicago University Press.

Brown, P. 1988. The body and society: men, women and sexual renunciation in early Christianity. New York: Columbia University Press. (Franse uitgawe 1995: Le renoncement à la chair. Virginité, célibat et continence dans le christianisme primitif. P.-E. Dauzat en C. Jacob [verts.]. Collection Bibliothèque des Histoires. Parys: Éditions Gallimard.)

Bullough, V.L. en J.A. Brundage. 1982. Sexual practices and the medieval church. Buffalo: Prometheus.

Bullough, V.L. en J.A. Brundage (reds.). 1996. Handbook of medieval sexuality. Londen: Bloomsbury.

Bychowski, M.W. 2018. The isle of hermaphrodites: Disorienting the place of intersex in the Middle Ages. Postmedieval, 9(2):161–78.

Bynum, C.W. 1987. Holy feast and holy fast. Berkeley, Los Angeles: University of California Press.

Carrette, J.R. (red.). 1999. Religion and culture: Michel Foucault. Londen, New York: Routledge.

Carroll, S. 2018. Medievalism in “A song of ice and fire” and “Game of thrones”. Cambridge: Boydell & Brewer. https://doi.org/10.1017/9781787441941.

Chazelle, C., S. Doubleday, F. Lifschitz en A.G. Remensnyder (reds.). 2012. Why the Middle Ages matter: medieval light on modern injustice. Londen: Routledge.

Classen, A. (red.). 2008. Sexuality in the Middle Ages and early modern times: new approaches to a fundamental cultural-historical theme. Berlyn: Walter de Gruyter.

Cook, D. 2014. Foucault, Freud, and the repressive hypothesis. Journal of the British Society of Phenomenology, 45(2):148–61.

Davis, R.H.C. en J.M. Wallace-Hadrill (reds.). 1981. The writing of history in the Middle Ages. Oxford: Oxford University Press.

De Libera, A. 1987. Logique et théologie dans la Summa Quoniam homines d’Alain de Lille. In Jolivet en De Libera (reds.) 1987:437–69.

Dodson, J.R. 2017. The fall of men and the lust of women in Seneca’s Epistle 95 and Paul’s Letter to the Romans. Novum Testamentum, 59(4):355–65.

Elden, S. 2018. Review: Michel Foucault, Histoire de la sexualité 4: Les aveux de la chair. Theory, Culture and Society, 35(7–8):293–311. http://dx.doi.org/10.1177/0263276418800206.

Elliott, A. 2017. Medievalism, politics, and mass media: Appropriating the Middle Ages in the twenty-first century. Woodbridge: D.S. Brewer.

—. 2020. The corrupter of boys: sodomy, scandal and the medieval clergy. Philadelphia: University of Pennsylvania Press.

Elliot, D. 2012. Sexual scandal and the clergy: a medieval blueprint for disaster. In Chazelle e.a. (reds.) 2012:90–105.

Evans, R. (red.). 2014. A cultural history of sexuality in the Middle Ages. Londen: Bloomsbury.

Foucault, M. 1976 (Engelse vertaling 1978). Histoire de la sexualité 1: La volonté de savoir. Collection Bibliothèque des Histoires. Parys: (Éditions) Gallimard. (The history of sexuality, Volume 1: The will to knowledge. Hurley, R. [vert.]. New York: Pantheon.)

—. 1980. Herculine Barbin: Being the recently discovered memoirs of a nineteenth-century French hermaphrodite. McDougall, R. (vert.). New York: Vintage.

—. 1984a (Engelse vertaling 1985). Histoire de la sexualité 2: L’usage des plaisirs. Collection Bibliothèque des Histoires. Parys: (Éditions) Gallimard. (The history of sexuality, Volume 2: The use of pleasure. Hurley, R. [vert.]. New York: Random House.)

—. 1984b (Engelse vertaling 1986). Histoire de la sexualité 3: Le souci de soi. Collection Bibliothèque des Histoires. Parys: (Éditions) Gallimard. (The history of sexuality, Volume 3: The care of the Self. Hurley, R. [vert.]. New York: Pantheon.)

—. 1999. Sex and solitude. In Carrette (red.) 1999:182–7.

—. 2018 (Engelse vertaling 2021). Histoire de la sexualité 4: Les aveux de la chair. Bibliothèque des Histoires. Parys: (Éditions) Gallimard. (The history of sexuality, Volume 4: Confessions of the flesh. Hurley, R. [vert.]. New York: Pantheon.)

Gebhardt, T. 2015. Homosexuality in television medievalism. In Pagès en Kinane (reds.) 2015:197–214.

Glorieux, P. 1948. Le tractatus novus de Poenitentia de Guillaume d’Auvergne. Miscellanea moralia in honorem eximii domini Arthur Janssen, ble. 551–65. Leuven: Bibliotheca Ephemeridum theologicarum Lovaniensium.

Goering, J. en F.A.C. Mantello. 1987. The early penitential writings of Robert Grosseteste. Recherches de théologie ancienne et médiévale, 54(1):80–92.

Goldhill, S. 1995. Foucault’s virginity. Ancient erotic fiction and the history of sexuality. Cambridge: Cambridge University Press.

Goosen, D.P. 2017. Die metafisiese tradisie vandag. ’n Interpretasie van Eric D. Perl. LitNet Akademies, 14(3):557–91. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2017/12/LitNet_Akademies_14-3_Goosen_557-591.pdf.

Gros, F. (red.). 2018. Michel Foucault, Histoire de la sexualité 4: Les aveux de la chair. Collection Bibliothèque des Histoires. Parys: (Éditions) Gallimard.

Gummere, R.M. (red.). 1925. Seneca. Volume 6. Cambridge, MA: Harvard University Press.

Hallett, J.P. 1989. Female homoeroticism and the denial of Roman reality in Latin literature. Yale Journal of Criticism, 3(1):209–27.

Halperin, D.M. 1989. Is there a history of sexuality? History and Theory, 28(1):257–74.

Harvey, K. 2021. The fires of lust: Sex in the Middle Ages. Londen: Reaktion.

HBO. 2011–2019. Game of Thrones, Seasons 1–8, Episodes 1–73.

Holsinger, B. 2007. Neomedievalism, neoconservatism, and the War on Terror. Chicago: Prickly Paradigm Press.

Jolivet, J. en A. De Libera (reds.). 1987. Gilbert de Poitiers et ses contemporains. Napels: Bibliopolis.

Karras, R.M. 1996. Common women: prostitution and sexuality in medieval England. Oxford: Oxford University Press.

—. 2012. Unmarriages: women, men, and sexual unions in the Middle Ages. Philadelphia: University of Pennsylvania Press.

Karras, R.M. en K.E. Pierpont. 2023. Sexuality in medieval Europe: Doing unto others. Londen, New York: Routledge.

Krüger, J.S. 2020. Dante se mistieke reis. Tweede tog: Purgatorio. Ingelei, vertaal, toegelig, vertolk. HTS Religion & Society Series, Volume 8. Kaapstad: AOSIS. https://books.aosis.co.za/index.php/ob/catalog/book/242 (15 April 2023 geraadpleeg).

Kurylo, B. 2017. Pornography and power in Michel Foucault’s thought. Journal of Political Power, 10(1):71–84. http://dx.doi.org/10.1080/2158379X.2017.1284157.

Leezenberg, M. 2023. Van Geert Grote tot Ignatius van Loyola: seks, spiritualiteit en gouvernmentaliteit in de Late Middeleeuwen. Algemeen Nederlands Tijdschrift voor Wijsbegeerte, 115(1):60–72. https://doi.org/10.5117/ANTW2023.1.007.LEEZ.

Lochrie, K., P. McCracken en J.A. Schultz (reds.). 1997. Constructing medieval sexuality. Minneapolis: University of Minnesota Press.

Majnarić, I., D. Patafta en M. Jerković (reds.). 2019. The Fourth Lateran Council: an event that transformed Europe. Zagreb: Kršćanska sadašnjost.

Martin, G.R.R. 1996–2011. A song of ice and fire. Volumes I–V. New York: Random House (Bantam Books).

Murray, A. 1981. Confession as a historical source in the thirteenth century. In Davids en Wallace-Hadrill (reds.) 1981:275–322.

Murray, J. 2008. One flesh, two sexes, three genders. In Bitel en Lifshitz (reds.) 2008:34–51.

Murray, J. en K. Eisenbichler. 1996. Desire and discipline: sex and sexuality in the pre-modern West. Toronto: University of Toronto Press.

Nestle, E. en K. Aland (reds.). 2018. Nestle-Aland Novum Testamentum Graece. 28ste uitgawe. Stuttgart: Deutsche Bibelgesellschaft.

Oksala, J. 2005. Foucault on freedom. Cambridge: Cambridge University Press.

Ostkamp, S. 2009. The world upside down. Secular badges and the iconography of the late medieval period: ordinary pins with multiple meanings. Journal of Archaeology in the Low Countries, 1(2):107–25. https://jalc.nl/cgi/t/text/text-idx7c37.html.

Pagès, M. en K. Kinane (reds.). 2015. The Middle Ages on television: critical essays. Jefferson, NC: McFarland & Company, Inc.

Paulus Hungarus. 1221 (1880). De confessione. Bibliotheca casinensis seu codicum manuscriptorum. Volume 4. Monte Casino: Typographia Casinensis.

Payer, P.J. 1984a. Sex and the Penitentials. The development of a sexual code, 550–1150. Toronto: University of Toronto Press.

—. 1984b. The humanism of the Penitentials and the continuity of the penitential tradition. Mediaeval Studies, 46(1):340–50.

—. 1985. Foucault on penance and the shaping of sexuality. Sciences Religieuses / Studies in Religion, 14(3):313–20.

—. 1991. Sex and confession in the thirteenth century. In Salisbury (red.) 1991:126–44.

—. 1993. The bridling of desire: views of sex in the later Middle Ages. Toronto: University of Toronto Press.

Praet, D. 2020. Augustine of Hippo and Michel Foucault’s history of sexuality. In Dupont, François en Leemans (reds.) 2020:213–36. http://hdl.handle.net/1854/LU-8685052 (30 April 2023 geraadpleeg).

Raffnsøe, S. 2018. Michel Foucault’s Confessions of the flesh. The fourth volume of the History of sexuality. Foucault Studies, 25(1):393–421. https://doi.org/10.22439/fs.v25i2.5593.

Raguž, I. 2019. On the sacrament of confession: Michel Foucault and the Fourth Lateran Council. In Majnarić, Patafta en Jerković (reds.) 2019:317–35.

Resnick, I.M. 2019. Learning from the Confessional in the later thirteenth century: contributions to human sexuality, daily life, and a science of nature. Church History, 88(1):293–315.

Salisbury, J.E. 1990. Medieval sexuality: a research guide. New York: Garland.

Salisbury, J.E. (red.). 1991. Sex in the Middle Ages. Londen: Routledge.

Schoonheim, L. 2023. Verzet en maagdelijkheidstechnieken. Algemeen Nederlands Tijdschrift voor Wijsbegeerte, 115(1):30–45. https://doi.org/10.5117/ANTW2023.1.005.SCHO.

Sharp, M. 1998. Remaking medieval heroism: nationalism and sexuality in Braveheart. Florilegium, XV:251–66.

Shepherd, J. 2016. Game of thrones season 6 ratings: Show brought in 25.1 million viewers on average per episode. The Independent, 19 Julie. https://www.independent.co.uk/arts-entertainment/tv/news/game-of-thrones-season-6-ratings-show-brought-in-251-million-viewers-on-average-per-episode-a7144261.html (14 Mei 2023 geraadpleeg).

Westerink, H. 2023. Foucault and the problematics of the will in Cassian and Augustine. Algemeen Nederlands Tijdschrift voor Wijsbegeerte, 115(1):19–29. https://doi.org/10.5117/ANTW2023.1.004.WEST.

 

Eindnotas

1 Vir ’n oorsig van die komplekse ontwikkeling en samehange van die huidige vier bande van Histoire de la sexualité (Foucault 1976, 1984a, 1984b), veral na die byvoeging van die vierde band, Les aveux de la chair (Foucault 2018), sien Beukes (2021c:1287–310; vgl. Elden 2018:293–311 en Raffnsøe 2018:393–421). Vir omvattende oorsigte van Foucault se lesing van die vroeë Middeleeue in Les aveux de la chair, sien Praet (2020:213–36), Westerink (2023:19–29) en Beukes (2021a:1–12; 2021b:1–15; 2021e:1–12; 2023b). Vir ’n oorsig van Foucault se lesing van die sentrale en latere Middeleeue in La volonté de savoir en Folie et Déraison, sien Leezenberg (2023:60–72; vgl. Payer 1985:313–20 en Goldhill 1995:1–33), Raguž (2019:317–35) en Beukes (2022a:1–10). Vir ’n samevattende oorsig van ontwikkelinge in die internasionale Foucault-navorsing sedert 2018, met klem op die mees onlangse ontledings van Les aveux de la chair, sien Beukes (2023a). Vir ’n oorsig van ontwikkelinge in die gespesialiseerde Foucault-navorsing met betrekking tot Les aveux de la chair in spesifiek Nederland en België vanaf 2018 tot 2020, sien Beukes (2020a:1–14).

2 Verwysings na Foucault se tekste dui die jaar van oorspronklike publikasie in Frans en met die Franse titel aan. Die bladsynommers verwys egter na die Engelse vertalings, ter wille van diegene wat nie Frans magtig is nie, direk ná die Franse titels in die bibliografie gelys. Vertalings is die skrywer se eie en dinamies van aard.

3 Sien hierby die boeiende ontleding van Cook (2014:148–61) ten opsigte van Foucault, Freud en die repressiehipotese.

4 Die monnike Johannes Cassianus (360–435) en Evagrius Ponticus (345–399) het aangevoer dat die “sewe groot sondes”, ook die kardinale sondes of doodsondes genoem, alle ander sondes ondervang het. Hulle is superbia (hoogmoed en ydele trots), avaritia (geldsug en materialisme), luxuria (wellus), invidia (jaloesie), ira (wraaksug), gula (oordaad) en socordia (onvergenoegdheid). Op sy beurt betoog Foucault in La volonté de savoir en Les aveux de la chair dat luxuria in hierdie lys uitgesonder is as die hoogste doodsonde, omdat dit met begeerte saamhang (en dus nie sonder rede as die finale gebod in die Tien Gebooie geld nie). Vir die monnike van die vierde en vyfde eeue was die probleem met seksuele begeerte inderdaad nie seks nie, maar die daaraan grondliggende begeerte.

5 Foucault se weersin in pornografie – dit beteken vir hom die grafiese en gedetailleerde uitbeelding van seks sonder konteks, wat soos die bieg sélf op ’n “Westerse seksuele droefheid” dui – is goed gedokumenteer (sien Kurylo 2017:8–9). Daarby verstaan Foucault pornografie (veral in die Europese gedaante daarvan in die laat 1960’s en 1970’s) as ’n tipies moderne maatskaplike meganisme om seksualiteit normaliserend onder beheer te hou.

6 Adams (1982; vergelyk selfs net die indeks op bladsye 257–65) lys met deeglike etimologiese verklarings die volledige oorspronklike Latynse seksuele woordeskat, wat letterlik honderde inskrywings bevat.

7 Sien Beukes (2019a:1–13; 2020b:1–13; 2021a:1–12).

8 Sien Beukes (2022b:1–10).

9 Sien Beukes (2021b:1–15; 2021f:200–36). Vir ’n wyer bespreking van mediëvalismes, sien Beukes (2021d:1–8).

10 Sien Beukes (2021e:1–12; vgl. Schoonheim 2023:30–45).

11 Vir Hadewijch, sien Beukes (2020d:1–10); vir Marguerite, sien Beukes (2022c:200–25); vir Hildegard, sien Beukes (2019b:64–102); vir Katharina, sien Beukes (2021g:1–9).

12 Ruth Mazo Karras is ’n Amerikaanse historikus en tans professor in Middeleeuse studies aan Trinity College Dublin. Katherine Pierpont is tans ’n doktorale student in Middeleeuse geskiedenis aan die Universiteit van Minnesota (sien Karras en Pierpont 2023:ii).

13 Oor Augustinus se beskouing van seksuele begeerte as die “vorm van die wil” en sy verbinding van die huwelik met kuisheid en maagdelikheid, sien Beukes (2021a:1–12, 2021b:1–15, 2023b). Legitieme seks hoort volgens Augustinus binne die huwelik en slegs wanneer die uitdruklike opset tot voortplanting daarby verantwoord is. Enige afwyking van hierdie basiese stelreël is pervers (na die oorspronklike betekenis van para fusin, “teennatuurlik”) en behoort as ’n morele afwyking beken te word, soos uiteindelik gereël deur die verpligte jaarlikse bieg vanaf die Vierde Lateraanse Konsilie van 1215.

14 Katherine Harvey het aan King’s College Londen gepromoveer, en is tans ’n senior navorsingsgenoot in Middeleeuse studies aan Birkbeck, Universiteit van Londen (https://katherineharveyhistorian.co.uk/about).

15 Vir hierdie werk is Elliot in 2023 paslik met die gesogte Haskins Medalje van The Medieval Academy of America bekroon (https://www.medievalacademy.org/page/Haskins_Medal_Winner).

16 “Natuurfilosowe” (“philosophers of nature”, soos die aanklagte teen Skotus Eriugena duidelik laat blyk het [sien Beukes 2021h:1–5]), is met panteïsme geassosieer, terwyl “natuurlike filosowe” (“natural philosophers”) besig was met die quadrivium (veral astronomie, meetkunde en wiskunde) en die vroeë ontwikkeling van wat later (ongeveer vanaf 1360) as die natuurwetenskappe in veral die Aristoteliese tradisie bekend sou staan (veral ten opsigte van fisika, chemie en astronomie).

17 Hurley se Engelse vertaling van die bekende paragraaf lui soos volg: “The nineteenth-century homosexual became a personage, a past, a case history, and a childhood, in addition to being a type of life, a life form, and a morphology, with an indiscreet anatomy and possibly a mysterious physiology […] Homosexuality appeared as one of the forms of sexuality when it was transposed from the practice of sodomy onto a kind of interior androgyny, a hermaphrodism of the soul. The sodomite had been a temporary aberration; the homosexual was now a species.” Hierdie vertaling weerspieël ongelukkig nie die duidelike verband tussen “sondaar” en “spesie” in die oorspronklike Franse teks nie.

18 Foucault vertolk die sakramentalisering van die bieg kursories só (weer kan Hurley se vertaling gebruik word, in Foucault 1976 [vertaling 1978]:58): “Since the Middle Ages at least, Western societies have established confession as one of the main rituals we rely on for the production of truth: the codification of the sacrament of penance by the Lateran Council in 1215, with the resulting development of confessional techniques […] and methods of interrogation and inquest.” Dié jaarlikse aflê van die bieg word in die 21ste dekreet (Omnis utriusque sexus) van die notule van die Vierde Lateraanse Konsilie van 1215 só in die amptelike moderne Engelse vertaling weergegee: “All the faithful of either sex […] should individually confess all their sins in a faithful manner to their own priest at least once a year […] The priest shall […] be discerning and prudent […]. Let him carefully inquire about the circumstances of both the sinner and the sin […]. Let him take utmost care, however, not to betray the sinner at all by word or sign in any way” (sien https://www.papalencyclicals.net/councils/ecum12-2.htm#21). Hoewel die betrokke verwysing sélf nie seks as sodanig uitsonder nie, is Foucault se afleiding korrek dat geen ander “sondes” soveel besonderhede in die bieg sou kon vereis nie, en dat “sondes” wat met seks saamhang, dus bo alle ander moontlike “sondes”, “ondeugde” en “oortredings” binne die biegkonteks van die sentrale Middeleeue geprioritiseer is.

19 Hierdie afdeling (3.5) verskaf ’n opsomming van die tersaaklike gedeeltes in die wyer ideëhistoriese ontleding van Beukes (2022a).

20 Dit sluit na die kloosterhervormer Petrus Damianus (1007–1072) se hervormingsteks, Liber gomorrhianus (vgl. Beukes 2019a:2–4), intervroulike seksuele kontak in. Die teks is aangebied aan pous Leo IX (1002–1054, pous vanaf 1049 tot 1054) wat in 1049 aan Damianus opdrag gegee het om die verskynsel van toenemende seksuele kontak tussen konfessors en biegsubjekte (manlik en vroulik), tussen priesters en priesters, tussen monnike en nonne, tussen monnike en monnike, en tussen nonne en nonne te ondersoek, in rubrieke te boekstaaf en met ’n kerklike advies rakende die hantering van die probleem van seksuele promiskuïteit in die 11de-eeuse kloosterwese na vore te kom. Die uitbreiding van die begrip sodomie in die teks om onder andere ook die “vroulike sodomiet” in te sluit, het nawerking geniet vanaf die Konsilie van Reims in 1049 tot minstens nog by die Vierde Lateraanse Konsilie in 1215.

21 Hierdie topoi is verder gesistematiseer in die Spaanse Dominikaan Raymond van Penyafort (ca. 1175–1275) se Summa de casibus poenitentiae (ca. 1226), wat spesifiek vir Dominikaanse konfessors aangebied is, maar vanaf die vierde dekade in die 13de eeu as die gestandaardiseerde kommentaar oor die Summae confessorum beskou is, ook vir nie-Dominikane (Payer 1991:143, eindnota 11).

22 Die rede waarom Paulus Hungarus hierdie toegewing maak, is dat die apostel Paulus self in geen stadium voortplantingsopset as voorwaarde vir seksuele kontak binne die huwelik gestel het nie. Trouens, in 1 Korintiërs 7:3–5 handhaaf Paulus die opvatting van vrye seksuele toegang binne die huwelik (synde ’n [objektiewe] “huweliksplig”): “’n Getroude man moet sy plig teenoor sy vrou nakom, en net so ook ’n getroude vrou haar plig teenoor haar man. ’n Getroude vrou het nie seggenskap [exousiazou] oor haar eie liggaam nie, maar haar man beskik daaroor; net so het ’n getroude man nie seggenskap oor sy eie liggaam nie, maar sy vrou beskik daaroor. Moenie seks binne die huwelik afwys nie, tensy so ooreengekom [...]” (my dinamiese vertaling uit Nestle Aland Novum Testamentum Graece).

 

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Die voortgesette ontwikkeling van studies in Middeleeuse seksualiteit first appeared on LitNet.

The post Die voortgesette ontwikkeling van studies in Middeleeuse seksualiteit appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 795

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>