|
Opsomming
Die doel van hierdie artikel is om te ondersoek hoe die diskoers van voortplanting en geboorte in die vroeë Christelike denke getransformeer word, deur Johannes Chrusostomus (ca. 349–407 n.C.) as ’n gevallestudie te gebruik. Chrusostomus is vir hierdie studie gekies omdat hy geïdentifiseer is as een van die vroeë Christelike skrywers wat baie oor die onderwerp te sê gehad het. Michel Foucault het Chrusostomus geïdentifiseer as een wat in werklikheid ’n kuns of technê van die huwelik en seksuele verhoudings ontwikkel het. Die artikel ondersoek eerstens die klemverskuiwing van om kinders te baar (teknogonia) na die opvoeding van ’n kind (paidotrofia), wat ouerskap definieer. Dan gaan die studie voort om die transformasie van Christelike voortplanting vanuit die oogpunt van androgeneratiwiteit te beskou. Wanneer daar in hierdie artikel van androgeneratiwiteit gepraat word, verwys dit na ’n ideale wyse van reproduksie of voortplanting waar die manlike liggaam as die primêre trajek en bron dien. Drie kenmerke van androgeneratiewe voortplanting en geboorte word in Chrusostomus se denke uitgelig: a) androgeneratiewe voortplanting veronderstel totale psigiese en liggaamlike volmaaktheid; b) androgeneratiewe voortplanting skend en verander nie die liggaam nie; en c) androgeneratiwiteit ontwikkel klimakties en parallel met die Christelike heilsgeskiedenis. Die artikel toon aan dat die diskoers van voortplanting en geboorte, in Chrusostomus se denke, getransformeer is deur die vorm van androgeneratiwiteit aan te neem. Manlikheid is die kern daarvan, en beide mans en vroue kon voortplantingsagente of reproduktiewe kapitaal in hierdie nuwe raamwerk wees. Die belangrikste is om te erken dat antieke Christelike bronne soos Chrusostomus ideale voortplanting en geboorte met manlikheid geassosieer het.
Trefwoorde: androgeneratiwiteit; geboorte; gender; Johannes Chrusostomus; manlikheid; Patristiek; reproduktiwiteit; voortplanting; Vroeë Christendom
Abstract
John Chrysostom and the transformation of the discourse of reproduction and birth in early Christianity
In late ancient Christian thought, we have an almost unanimous reaction against marriage, sexual intercourse and procreation. Although most Christian writers did not completely forbid marriage and sexual intercourse, which would be considered heretical (some groups such as the so-called “Encratites” did forbid it altogether), marriage occupies a second place to the state of virginity. This reaction against marriage and especially sex and reproduction is considered a major departure from earlier Roman views, which promoted, even rewarded, marriage and reproduction (Treggiari 1991; Hersch 2010). This has implications for how we would understand issues such as patriarchy, androcentrism, and reproductive capital in late ancient Christian thought. Of course, the majority of people continued in married life and had children – virginity and the monastic life were certainly not suitable for everyone, as many ancient authors also believed (Caner 2012:588–600). This study approaches reproduction and birth as discourses in early Christian thought. That is, applications of language and rhetoric that are deployed strategically (i.e. with power agendas) in a variety of ways, all of which have very real and practical consequences. Discourses do things; they shape our world, our society, our thinking and our bodies.
The discourse of reproduction and birth was not completely renounced in Christian thought, but rather transformed. This is in accordance with Brown’s (1971) characterization of late antiquity as a period of transformation rather than decline. The purpose of this article is to examine how the discourse of reproduction and birth is transformed in late ancient Christian thought, focusing specifically on John Chrysostom (ca. 349–407 AD). Chrysostom is undoubtedly a valuable source for late ancient social thought, and his works give us a glimpse of both social realities and social ideals. Chrysostom was initially a monk and then a priest in Syrian Antioch and later became Bishop of Constantinople. Early in his life, Chrysostom became known as a preacher and teacher of the Scriptures. He is one of the most prolific Greek Christian writers of his time and his corpus includes not only theological and moral treatises and letters, but many homiletic commentaries on several books of the Bible. (For Chrysostom’s biography, see Kelly 1998; Mayer and Allen 1999; Brändle 2004.)
The main questions of this study are the following: as the discourse of reproduction and birth continued in the early Christian framework of thought, with Chrysostom as a case study, how did it change from its conventional use and understanding, which focused mainly on the female body and femininity? What form did the new, transformed discourse of reproduction and birth take and why?
In the first instance, Chrysostom expands the concept of teknogonia. (To bear children, in Greek, see 1 Tim. 2:15.) For Chrysostom, teknogonia actually means paidotrophia, i.e. the education of children. In this interpretive move, he takes a concept that is based in the biological sphere and extends it to the social sphere. It is then not birth, by default, that brings salvation, but educating children in Christian virtues. The discursive shift away from the conventional (female) field of reproduction (teknogonia) to the social and pedagogical terrain (paidotrophia) has significant implications for how we should understand late ancient Christian views on reproduction and birth. We can therefore become more aware of the pervasive (and embedded) nature of early Christian gender power dynamics and masculinity in these discourses and ideologies of reproduction and birth – concepts that may appear on the surface as “feminine”; however, may be grounded in masculine discourse. It is here, with this shift from teknogonia to paidotrophia, that we observe the beginning of the transformation of the discourse of birth and reproduction in Chrysostom’s thought.
Secondly, we witness the male body becoming the locus of ideal reproduction and birth. This is an unexpected and surprising development in Christian thought. I term this phenomenon androgenerativity, and it serves as the primary point of integration in the Christian transformation of reproductive and birth discourses. When I speak of androgenerativity, I refer to an ideal mode of reproduction where the masculine body serves as the primary trajectory and source.
Androgenerativity begins with the body of Adam as the primary and ideal place of reproduction from which Eve sprouts. Then the stories of the barren women of the Old Testament also function as examples of androgenerative reproduction. Although they were women, both their barrenness and their masculine virtue, according to Chrysostom, qualified them to be examples, even types, of ideal androgenerative reproduction. Therefore, we must keep in mind that it is the masculine body that is the locus of androgenerativity. It is not simply the male body – not all men, according to Chrysostom, were masculine. Women could also be masculine, for example, Sarah and the other barren women of the Old Testament. Their most important purpose was precisely to prepare believers for the conception and birth of Jesus by the Virgin Mary, another example of androgenerative reproduction. Finally, all believers can also participate in spiritual regeneration through the Holy Spirit. This form of spiritual reproduction and birth is also androgenerative.
There are thus three features of androgenerative reproduction and birth in Chrysostom’s thought:
- Androgenerative reproduction presupposes total psychic and bodily perfection.
- Androgenerative reproduction does not violate and change the body.
- Androgenerativity develops climactically and parallel to the Christian history of salvation.
This article therefore demonstrates that the discourse of reproduction and birth, in Chrysostom’s thought, was transformed by taking the form of androgenerativity. Masculinity was at its core, and both men and women could be reproductive agents or reproductive capital in this new framework. Most important is to recognize that ancient Christian sources such as those of Chrysostom associated ideal reproduction and birth with masculinity.
Keywords: androgenerativity; birth; Early Christianity; gender; John Chrysostom; masculinity; Patristics; reproduction
1. Inleiding
In die laat-antieke Christelike denke het ons ’n byna eenparige reaksie teen die huwelik, seksuele omgang en voortplanting.1 Alhoewel die meeste Christelike skrywers nie die huwelik en seksuele omgang heeltemal verbied het nie, wat as kettery beskou sou word (sommige groepe het dit wel geheel en al verbied2), kom die huwelik ’n ver tweede na die toestand van maagdelikheid. Hierdie reaksie teen die huwelik en veral seks en voortplanting word beskou as ’n groot afwyking van vroeëre Romeinse sienings, wat die huwelik en voortplanting bevorder, en selfs beloon het (Treggiari 1991; Hersch 2010). Dit het implikasies vir hoe ons kwessies soos patriargie, androsentrisme en reproduktiewe kapitaal3 in laat-antieke Christelike denke sou verstaan. Natuurlik het die meerderheid mense steeds in die getroude lewe voortgegaan en kinders gehad – maagdelikheid en die kloosterlewe was beslis nie geskik vir almal nie, soos baie antieke skrywers ook meen (Caner 2012:588–600). Hierdie studie benader voortplanting en geboorte as diskoerse in die vroeë Christelike denke, met ander woorde, toepassings van taal en retoriek wat op ’n verskeidenheid maniere strategies (d.w.s. met magsagendas) aangewend word, wat almal baie werklike en praktiese gevolge dra. Diskoers bring verandering teweeg; dit vorm ons wêreld, ons samelewing, ons denke en ons liggame.
Die diskoers van voortplanting en geboorte is egter nie in die Christelike denke heeltemal ontsê nie, maar eerder getransformeer. Dit is in ooreenstemming met Brown (1971) se karakterisering van die laat-antieke tyd as ’n tydperk van transformasie eerder as Niedergang. Die doel van hierdie artikel is om te ondersoek hoe die diskoers van voortplanting en geboorte in die vroeë Christelike denke getransformeer word, met die fokus spesifiek op Johannes Chrusostomus (ca. 349–407 n.C.). Chrusostomus is sonder twyfel ’n waardevolle bron vir laat-antieke sosiale denke, en sy werke bied aan ons ’n blik op beide sosiale realiteite en sosiale ideale. Chrusostomus was aanvanklik ’n monnik en toe priester in Siriese Antiogië en het later biskop van Konstantinopel geword. Vroeg in sy lewe het Chrusostomus bekend geword as ’n prediker en leraar van die Skrif. Hy is een van die mees produktiewe Griekse Christelike skrywers van sy tyd en sy korpus sluit nie net teologiese en morele verhandelings en briewe in nie, maar ’n groot aantal homiletiese kommentare op baie boeke van die Bybel. (Oor Chrusostomus se biografie, sien Kelly 1998; Mayer en Allen 1999; Brändle 2004.)
Chrusostomus is vir hierdie studie gekies omdat hy redelik uitgesproke was oor die kwessie van die huwelik, seksualiteit en voortplanting. In die onlangs gepubliseerde vierde deel van die Histoire de la sexualité gaan Foucault (2018:249–68) sover as om te meen dat Chrusostomus een van die min voorbeelde onder vroeë Christelike skrywers is wat bewys toon van ’n kuns, of technê, van die huwelikslewe in Grieks. Terwyl baie skrywers ’n kuns van seksuele verloëning ontwikkel het, voer Foucault aan dat dit skaarser is om sulke gefokusde en gestruktureerde aandag aan die kwessie van die huwelik (en, by implikasie, voortplanting en geboorte) te sien. As die diskoers van voortplanting en geboorte met ander woorde voortduur in die Christelike denkraamwerk, en veral sigbaar is by Chrusostomus, hoe beweeg dit weg van die konvensionele gebruik en begrip daarvan? Wat word dit dan en hoekom neem dit hierdie nuwe vorm aan? Dit is die hoofvrae in hierdie studie.
2. Van teknogonia na paidotrofia
Soos Clark (1999) aantoon, is Christelike asketiese houdings wat verband hou met seksuele kwessies direk beïnvloed deur die interpretasie van die Skrif en die toepassing van skriftuurlike beginsels en praktyke. Paulus se woorde in 1 Kor. 7 was die mees invloedryke (Hunter 2008:163–91). Daar is egter ook tekste wat meer problematies en moeiliker is om te interpreteer binne die skema van asketiese denke oor seksualiteit, veral wanneer dit by voortplanting en geboorte kom. Een so ’n teks is byvoorbeeld 1 Tim. 2:15. Die interpretasie van 1 Tim. 2:15 in die vroeë Christelike denke dui op hoe vroeë Christene die probleem van seksuele voortplanting bestuur het. Die literêre konteks spreek oor die kwessie van vroue se ondergeskiktheid in die kerk, met die berugte vers 11 waar vroue opdrag gegee word om te swyg. Vers 15 lees: “Maar sy sal haar redding vind in moederskap, as sy maar volhard in geloof, liefde en ’n heilige lewe, en daarby beskeie bly.”4 (Vir ’n goeie oorsig oor die gebruik van hierdie teks in die vroeë kerk, sien Solevåg 2013.) Chrusostomus skryf die volgende oor hierdie vers:
As moeders na die geboorte van hul kinders hul kroos in liefde en reinheid bewaar, sal hulle gered word. Op hierdie manier sal hulle geen geringe beloning ontvang nie, want hulle het vegters opgelei vir die diens van Christus (Homilie 9 oor 1 Timoteus 1, in Field 1861(6):70–2).5
Chrusostomus brei dus die begrip teknogonia (om kinders te baar, in Grieks6) in 1 Tim. 2:15 uit. Vir Chrusostomus beteken teknogonia hier eintlik paidotrofia, d.w.s. die opvoeding van kinders. In hierdie interpretatiewe skuif neem hy ’n konsep wat gegrond is in die biologiese sfeer en brei dit uit na die sosiale sfeer. Hy neem aan dat die onderwerp van 1 Tim. 2:15 diegene wat in geloof, liefde en heiligheid moet voortgaan, die kinders insluit, en glo dat die teks nie net op die moeder van toepassing is nie. Verder word moeders wat hul kinders grootmaak om heiliges te word, in Chrusostomus se denke, eintlik as hoogs manlik beskou, en as “ware” moeders gereken. Die beste voorbeeld hiervan is sy skets van die moeder van die Makkabese martelare. In sy Homilieë oor die Makkabeërs (in Mayer 2006:136–54) is hierdie moeder waardig om ’n filosoof genoem te word – ’n hoogs manlike benaming (De Wet 2015:182–3) – omdat sy sewe martelare grootgemaak het, wat haar nog meer uitstekend maak (sien verder De Wet 2012:3–21; 2018:43–67). In Homilie 1 oor die Makkabeërs 8 (Mayer 2006:142) sê Chrusostomus:
Want om geboorte te gee is nie die kenmerkende eienskap van ’n moeder nie, want dit is ’n saak van die natuur; in plaas daarvan is ’n ware ma se bepalende kenmerk om haar kind reg groot te maak, want dit is ’n wilsbesluit.
In sy werk, Teen die opponente van die kloosterlewe 3 (in Hunter 1988:123–76) prys Chrusostomus ook die moeders wie se seuns monnike geword het en sê dat dit hulle redding sal wees. In teenstelling sê hy in ’n geskrif gerig aan die vaders van sy gehoor, Aangaande ydelheid en die opvoeding van kinders 16 (in Laistner 1951:91), dat mans wat hul seuns bederf en hulle in fyn linne beklee, hulle gewoond maak aan die korrupte weelde van die wêreld. Só word hierdie seuns meer en meer vroulik, swak en “sag” – beide die vaders en die seuns sal verlore gaan, volgens Chrusostomus. Ons sien duidelik hoe manlikheid en vroulikheid paradoksaal en ironies in hierdie argumente gebruik word om die gedrag van die ouers en kinders in te kleur. Geskikte paidotrofia is die belangrikste beginsel hier.
Dit is dan nie geboorte, by verstek, wat redding bring nie, maar om kinders in Christelike deugde op te voed. Die diskursiewe verskuiwing weg van die konvensionele (vroulike) voortplantingsveld (teknogonia) na die sosiale en pedagogiese terrein (paidotrofia) het beduidende implikasies vir hoe ons vroeë Christelike sienswyses oor voortplanting en geboorte moet verstaan. Ons kan dus meer bewus word van die deurdringende (en ingebedde) aard van vroeg-Christelike gender magsdinamika en manlikheid in hierdie diskoerse en ideologieë van voortplanting en geboorte – konsepte wat op die oog af as “vroulik” mag voorkom, kan egter op manlikheid gegrond wees. Dit is hier, met hierdie verskuiwing van teknogonia na paidotrofia, waar ons die begin van die transformasie van die diskoers van geboorte en voortplanting in Chrusostomus waarneem.
3. Androgeneratiwiteit as die oriënterende eienskap in Chrusostomus se diskoers oor voortplanting en geboorte
Wat gebeur dan met die konsep van teknogonia? Dit gaan immers nie ten volle verlore nie. Hoe word teknogonia, in die sin van voortplanting of reproduksie, diskursief getransformeer? As ’n begin moet ons meer verstaan oor die kompleksiteite van Chrusostomus se breër raamwerk van seksuele omgang, voortplanting en geboorte. Om dit te doen, moet ons sy kommentaar op Genesis 1–2 van nader ondersoek, wat in sy Homilieë oor Genesis voorkom (Griekse tekste in Migne 1857–86, vol. 53 en 54, in Engels vertaal deur Hill 1999).7 Ek voer hier aan dat daar ’n duidelike punt in die Genesis-kommentaar is waar God se modus operandi van die skepping verander; waar die skeppingsdaad van ’n soort “vervaardiging” (wat ons miskien kan assosieer met creatio ex nihilo) na voortplanting verskuif, waar die menslike liggaam, en nie meer die aarde of die waters (of die niksheid) nie, die primêre skeppingstrajek word. Dit vind plaas wanneer skepping nie meer deur middel van die gesproke woord van God soseer plaasvind nie, maar deur die penetrasie van die menslike liggaam. Hierdie kritieke oomblik word uitgelig in Chrusostomus se vyftiende preek oor Genesis (in Migne, 1857–86(53):118–25; Hill 1999:194–206), wanneer Eva uit die ribbebeen van Adam geskape word – wanneer die manlike liggaam dien as die lokus van voortplanting. In sy kommentaar op Gen. 2:20–2, in Homilie 15 oor Genesis 11 (in Migne 1857–86(53):122; Hill 1999:200–1), verduidelik Chrusostomus die volgende:
“Die Here God,” sê die teks, “het die ribbebeen wat Hy van Adam geneem het tot ’n vrou opgebou.” Let op die akkuraatheid [akribeian] van die Skrif. Ek bedoel, dit het nie meer gesê: Hy het gevorm nie [eplasen, maar “Hy het opgebou” [ôkodomêsen], aangesien hy deel van wat reeds gevorm was, geneem het en, so te sê, opgemaak het vir wat ontbreek het. Daarom sê dit: “Hy het opgebou”; hy het nie verdere vorming uitgevoer nie, maar het ’n klein deel van die vorming wat reeds gedoen is, geneem, en hierdie deel opgebou en ’n volledige wese gemaak. Kyk hoe groot is die krag van God, die meestervakman, wat ’n gelykenis maak van daardie liggaam uit daardie klein deeltjie, wat sulke wonderlike sintuie geskep het, en ’n skepsel volledig, heel en volmaak voorberei het, in staat om beide te praat en om baie vertroosting aan die man te verskaf deur haar wese met hom te deel. Want dit was vir die vertroosting van hierdie man dat hierdie vrou geskape is. Daarom het Paulus ook gesê: “Die man is nie ter wille van die vrou geskape nie, maar die vrou ter wille van die man” (1 Kor. 11:9). Sien jy hoe alles vir hom gemaak is? Ek bedoel, na die skeppingsdaad – nadat die wilde diere voortgebring is, sommige geskik om te eet en sommige in staat om te help in die mens se diens – het die man wat gevorm is iemand nodig gehad om mee te praat en wat hom baie vertroosting kon bied deur haar wese te deel. So, uit die man se rib skep God hierdie rasionele wese, en in sy vindingryke wysheid maak Hy haar volledig en volmaak, soos die man in elke opsig rasioneel, in staat om aan hom te verskaf wat van hulp sou wees in tye van nood en die dringende noodsaaklikhede van die lewe.
Op hierdie punt wil ek die konsep van androgeneratiwiteit bekendstel.8 Wanneer ek in hierdie artikel van androgeneratiwiteit praat, verwys ek na ’n ideale wyse van reproduksie of voortplanting waar die manlike liggaam as die primêre trajek en bron dien. Ander liggame word dus uit die manlike liggaam “gebou”. Dit verteenwoordig die wyse van reproduksie waaruit Eva gekom het en waar God ’n direkte aktiewe posisie inneem, terwyl die manlike liggaam die passiewe lokus van voortplanting is. Chrusostomus gebruik die teks van die Septuaginta (LXX), die Griekse Ou Testament, vir Genesis, en hy doen moeite om die noukeurigheid van die teks uit te wys. Dié noukeurigheid word beskryf as die akkuraatheid, in Grieks, akribeia, van die Skrif. Die konsep van akribeia is sentraal in Chrusostomus se eksegese (Hill 1981:32–6). Dit beteken dat op ’n mikrolinguistiese vlak elke skriftuurlike woord of frase ’n spesiale betekenis en doel het. Dus neem hy kennis van die boukundige metaforiese taal in Genesis 2:20–2. In die LXX word ’n vorm van die Griekse woord, oikodomeô, wat opbou beteken, gebruik. God doen nie meer blote “vorming” nie (waarvoor die Griekse woord plassô gebruik word), maar uit ’n deel van die man se liggaam konstrueer hy die vrou.
Hierdie diskursiewe verskuiwing van reproduktiwiteit in die vroeë Christelike denke word immers so vroeg gesien as in die geskrifte van Paulus. In 1 Korintiërs 11:12, ’n belangrike interteks in Chrusostomus se kommentaar op Genesis, soos ons sopas waargeneem het, sê Paulus: “want soos die vrou uit die man geneem is, so kom die man deur die vrou in die wêreld, maar alles is uit God”. Chrusostomus se interpretasie van hierdie teks is nogal veelseggend. “Paulus het nie gesê, ‘uit die vrou’ [ek tês gunaikos] nie, maar eerder, ‘uit die man’ [ek tou andros],” verduidelik Chrusostomus, en hy voeg by: “Want hierdie onaantasbare [akeraion] toestand bly by die man. Maar dit is nie uit die verdienste van die mens nie, maar van God.” Daarom voeg hy ook by: “maar alles uit God” [ek tou Theou] (Homilie 26 oor 1 Korintiërs 5, in Field 1847(2):317–8).
Twee belangrike opmerkings moet gemaak word oor Chrusostomus se kort maar kragtige interpretasie van hierdie vers. Ons sien eerstens dat hy noukeurige aandag gee aan Paulus se gebruik van voorsetsels in die vers, net soos hy die akkuraatheid van die woordeskat van Genesis 2:20–2 uitgewys het. Die korrekte en akkurate lees van voorsetselfrases was ’n deurslaggewende vaardigheid in die vroeë Christelike eksegese en bedryf van dogmatiek (McDonough 2009:99–101, 147–51) verwys daarna as voorsetselteologie (prepositional theology).9 Dit gaan so ver terug as die Hellenistiese tydperk, en dit het dikwels tot baie geskille gelei.
Tweedens beklemtoon Chrusostomus dat die vrou “uit die man” gemaak is, en lig die Griekse voorsetsel “ek” uit maar, volgens die Pauliniese teks, word die mens “deur die vrou” gemaak (dia tês gunaikos). Die gebruik van ek (teenoor dia) verwys ook na God se kreatiewe agentskap (ek tou Theou). In hierdie sin is voortplanting vanuit die man, dit wil sê androgeneratiewe voortplanting, nabootsend van God se skeppingsagentskap. Om egter deur die vrou geskep te word (“natuurlike” – teknogonia), word gesien as iets anders, iets wat eers na die sondeval tot stand gekom het. Androgeneratiwiteit is dus prelapsaries, terwyl seksuele voortplanting en konvensionele teknogonia postlapsaries is.
Die goddelike oorsprong en werking van androgeneratiewe reproduksie vestig dit beduidend bo seksuele voortplanting, en bevestig ook die verhewe posisie van die man bo dié van die vrou in die kosmiese hiërargie. Androgeneratiwiteit het dus werklike sosiale en politieke gevolge met betrekking tot die antieke Christelike geslagsorde. Verder, en ter ondersteuning van die vorige punt, verklaar Chrusostomus dat androgeneratiewe voortplanting ’n onaantasbare toestand (akeraios) is wat vir die man gereserveer is – vandaar die sentrale karakter van die Griekse term vir die man, anêr/andros, in die begrip androgeneratiwiteit. Die sin van akeraios hier is om “ongemeng” of selfs “onbesoedeld” te wees, dikwels verwysend na onverdunde wyn of gelegeerde metaal, maar in hierdie geval verwys dit waarskynlik na ’n suiwer toestand van reproduksie wat nie mixis, dit wil sê, seksuele omgang en die vermenging (sunchusis) van manlike en vroulike saad behels nie. (In ooreenstemming met Galenus, en in teenstelling met Aristoteles, het Chrusostomus geglo dat beide die man en die vrou saad tot die voortplantingsaksie bygedra het, sien De Wet 2017:1–9.)
Met die postlapsariese oorgang na seksuele voortplanting is daar ook die skepping van die sosiale struktuur van dominansie wat die huweliksverhouding is, waarin seksuele passie en voortplanting gereguleer word. (Oftewel veronderstel om gereguleer te word; sien 1 Kor. 7:9.) Androgeneratiwiteit word teenoor die huwelik en “normale” seksuele voortplanting gestel. Adam en Eva was volgens Chrusostomus, tegnies gesproke, nie “getroud” nie. In hierdie verband is Chrusostomus se werk, Aangaande maagdelikheid, baie relevant. “Hoekom het die huwelik nie voor die verraad [van Adam en Eva] verskyn nie? Waarom was daar geen geslagsgemeenskap in die paradys nie? Hoekom nie die pyne van geboorte voor die vloek nie?” vra Chrusostomus (Aangaande maagdelikheid 15.2; Griekse teks en Franse vertaling in Musurillo en Grillet 1966:146; Engelse vertaling in Shore 1983:23). Chrusostomus se verdere opmerkings hieroor is sentraal tot die idee van androgeneratiwiteit:
Nadat hy gevorm is, het die man in die paradys gebly en daar was geen rede vir die huwelik nie. Die mens het wel ’n helper nodig gehad, en sy het ontstaan; nie eers tóé het die huwelik nodig gelyk nie. Dit het nog nêrens verskyn nie, maar hulle het daarsonder gebly soos hulle was. Hulle het in die paradys soos in die hemel gewoon en hulle het God se geselskap geniet. Die behoefte na seksuele omgang, bevrugting, kraam, bevalling en elke vorm van verganklikheid was uit hulle siele verban. Soos ’n helder rivier wat uit ’n suiwer bron voortspruit, so was hulle in daardie plek versier deur maagdelikheid ... Vertel my, watter soort huwelik het Adam voortgebring? Watter soort geboortepyne het tot Eva gelei? Jy kan nie sê nie. Waarom het julle dan sulke ongegronde vrese? Waarom sidder julle as julle dink aan die einde van die huwelik, en dus die einde van die mensdom? ’n Oneindige aantal engele is tot diens van God, duisende der duisende aartsengele is langs hom, en nie een van hulle het ontstaan uit die gevolg van geslagte nie, geeneen van geboorte, kraampyne en bevrugting nie. Kon hy dan nie baie meer mense sonder die huwelik [d.w.s. seksuele omgang] geskep het nie? Net soos Hy die eerste twee geskep het van wie alle mense afstam, kon hy meer geskep het ... Maar bowendien het maagdelikheid aan die begin verskyn en het voor die huwelik bestaan. Die huwelik is later ingestel as gevolg van die redes wat uitgelig is [d.i. vir voortplanting en om begeerte te beheer] en was nodig geag ... Die punt is dat God nie die huwelik [en seksuele voortplanting] nodig gehad het vir die skepping van ’n menigte mense op die aarde nie (Aangaande maagdelikheid 14.3–4, 17.5; Musurillo en Grillet 1966:140–2, 154–5).
Androgeneratiwiteit, in Chrusostomus se denke, het drie kenmerke in die lig van bogenoemde teks.
3.1 Androgeneratiewe reproduksie veronderstel totale psigiese en liggaamlike volmaaktheid
Eerstens veronderstel androgeneratiewe reproduksie totale psigiese en liggaamlike volmaaktheid. Hiermee word bedoel dat die siel in totale beheer is van die liggaam en sy passies, ’n toestand wat baie manlik is. Dit veronderstel met ander woorde die ideale manlike liggaam, onbesoedeld (akeraion) deur sonde of passie – basies ’n utopiese (manlike) liggaam. In Aangaande maagdelikheid 14.3 (Musurillo en Grillet 1966:142–5) assosieer Chrusostomus die skepping van Adam en Eva met die skepping van die engele, en in sy uitleg van Gen. 1–2 verduidelik hy verder (in Homilie 15 oor Genesis 14, Migne 1857–86(53):123): “Tot op daardie tyd [voor die sondeval] het hulle soos engele in die paradys gelewe ... onverganklik en onsterflik geskape, en daarom het hulle in elk geval geen behoefte gehad om klere te dra nie.” Omdat die androgeneratiewe raamwerk geen passie of begeerte veronderstel nie, is prelapsariese naaktheid nie ’n probleem nie.
Die voorkoms van utopiese liggaamlike en engelediskoers in die konseptualisering van androgeneratiwiteit bepaal ook die tweede kenmerk daarvan, naamlik dat androgeneratiwiteit ’n seksualiteit veronderstel wat nie deur die passies of begeertes geroer word nie. Chrusostomus (Homilie 15 oor Genesis 14, Migne 1857–86(53):123) sê Adam en Eva “het nie gebrand van begeerte nie, is nie geteister deur ander hartstogte nie, nie onderhewig aan die behoeftes van die natuur nie.” Begeerte (epithumia in Grieks) kom eers na die sondeval. Androgeneratiwiteit is dus geposisioneer teenoor seksuele omgang, wat gebaseer is op die wellustige aantrekkingskrag van die teenoorgestelde geslag. Hierdie is ’n belangrike oomblik in die geskiedenis van seksuele impulse. Na die sondeval, meen Chrusostomus, is daar by elke man ’n “onnatuurlike natuurlike” begeerte na ’n vrou ingeplant, een wat die liggaam plesier gee, maar dit ook verslaaf. Androgeneratiwiteit vereis egter nie seksuele impuls of aantrekkingskrag nie. Dit lyk weer soos die engelelewe, aangesien engele, volgens vroeg-Christelike denke, nie deur hul hartstogte gepla word nie (Muehlberger 2013:53–5).
3.2 Androgeneratiewe reproduksie skend en verander nie die liggaam nie
Die derde kenmerk van androgeneratiwiteit is dat dit nie die liggaam verander nie; dit is pynloos en hou die vlees van die liggaam ongeskonde. Hier volg ’n verdere bespreking van Chrusostomus oor Gen. 2:20–2 (Homilie 15 op Genesis 7, in Migne 1857–86(53):120–1; Hill 1999:198):
Let op die akkuraatheid [akribeian] van die lering. Hierdie geseënde skrywer het albei dinge bepaal, of eerder die Heilige Gees deur sy tong, en so leer ons die volgorde van wat gebeur het. “God het lomerigheid oor Adam laat kom,” sê die teks, “en hy het geslaap.” Dit was nie gewone lomerigheid wat oor hom gekom het nie, ook nie gewone slaap nie; in plaas daarvan was die wyse en vaardige Skepper van ons natuur op die punt om een van Adam se ribbes te verwyder. God het hierdie soort slaap oor hom laat kom sodat die ervaring hom nie pyn sou veroorsaak en hy daarna sleg gesind teenoor die skepsel sou wees wat uit sy rib gevorm is nie, en deur herinnering aan die pyn ’n wrok teen hierdie wese by haar skepping koester nie. Hy het gemaak dat ’n lomerigheid oor hom kom en het veroorsaak dat hy voel asof hy deur een of ander swaar gewig afgeweeg word. Sy doel was dat hy, sonder om toe te laat dat die mens agterkom wat aan die gebeur was, soos een of ander uitstekende vakman, voorsiening sou maak uit Sy liefde vir enige tekortkominge wat sou volg uit hierdie skepping. Die teks sê: “Onthou, God het lomerigheid oor Adam laat kom, en hy het geslaap. God het een van Adam se ribbebene geneem en die vlees op sy plek gevul”, sodat hy na die ontwaking uit die slaap nie die verlies kon voel wat hy gely het nie. Julle sien, al was hy onbewus ten tyde van die verwydering, sou hy tog daarna waarskynlik besef wat gebeur het. Sodat hy hom nie pyn veroorsaak deur dit te verwyder nie, of die verlies daarvan hom later nie enige nood veroorsaak nie, het hy dus vir beide moontlikhede voorsien deur die verwydering pynloos te maak en vir die verlies te voorsien sonder om hom iets te laat voel van wat gebeur het.
Chrusostomus vertoon sy retoriese vaardigheid meesterlik in hierdie gedeelte, en verskaf besonderhede wat die teks van Genesis uitlaat. Hy gee die gehoor ’n gevoel van God se chirurgiese kundigheid. God word beskryf as ’n kundige vakman (technitês aristos) en sy ambag (technê; of ars) hier as chirurgie en medisyne. Chrusostomus maak hier gebruik van die jarelange Griekse tradisie van chirurgie en medisyne as ’n technê (Von Staden 1999:266–7; Walshe 2016:181). Die tegniese taal van chirurgie sinspeel ook, implisiet, op God se status as die groot Dêmiourgos. Hierdie eienskap van God is feitlik Asklepies. Die Griekse god van genesing en medisyne, Asklepius, was ook bekend daarvoor dat hy wonderbaarlik pynlose operasies kon uitvoer, meestal terwyl die pasiënt geslaap het. Adam se slaap in Genesis tydens die skepping van Eva, soos Chrusostomus dit uitlê, toon merkwaardige ooreenkomste met die praktyk van inkubasie (enkoimêsis, of incubatio), wat verband hou met die pynlose chirurgie en genesing van Asklepius (Rigato 2015:25–6).
In teenstelling met die perfekte utopiese liggaam wat deur androgeneratiwiteit veronderstel word, impliseer seksuele omgang en teknogonia die pynlike skeur van die liggaam en, bowenal, ’n verlies aan maagdelikheid. Die liggaam het nou ’n pyn narratief en pyn word ’n simbool van straf en ongehoorsaamheid, volgens Chrusostomus (Homilie 17 oor Genesis 31, Migne 1857–86(53):143): “Ek sal seker maak, sê Hy, dat die ontstaan van kinders, oorspronklik ’n rede vir vreugde, vir jou met pyn sal begin sodat jy elke keer sonder versuim persoonlik ’n herinnering sal hê, deur die nood en die pyn van elke geboorte, van die omvang van hierdie sonde van ongehoorsaamheid.” Maar deur God se genade, volgens Chrusostomus, en ten spyte van die pyn, sal voortplanting deur geslagsomgang en geboorte ’n vertroosting hê, naamlik die liefde vir ’n mens se kinders en om hulle reg groot te maak, soos in sy interpretasie van 1 Tim. 2:15. Net soos Eva as ’n troos vir Adam gegee is, so sal kinders ook ’n troos vir die ouers wees vir die pyn en spanning van swangerskap en geboorte (Chrusostomus, Homilie 17 oor Genesis 32, Migne 1857–86(53):144).
Onvrugbaarheid (apaidia) speel dus ook ’n belangrike rol in die androgeneratiewe raamwerk en is dus nie ’n teken van God se straf (of ’n siekte, soos sommige gedink het nie) (De Wet 2023:250–62). Chrusostomus (Homilie teen die bekendmaking van broers se sondes 6, Migne 1857–86(51):359) sê: “Wanneer jy dus ’n man en vrou saam gejuk in deugsaamheid sien, wanneer jy sien dat hulle deur God begunstig word, wat ag gee op vroomheid, maar siek is met onvrugbaarheid, moenie aanneem dat die kinderloosheid enigsins ’n vergelding vir sondes is nie.” (Oor onvrugbaarheid as ’n siekte in die laat-antieke tydperk, sien Niiranen 2016:223–40.) In Chrusostomus se denke dien die onvrugbare vroue van Abraham, Isak en Jakob in werklikheid ’n belangrike, amper profetiese funksie: hulle voorspel almal die geboorte van Christus deur die maagd Maria, en hulle almal ’n vertoon ’n mate van androgeneratiwiteit (De Wet 2023:250–8). Die monnik en askeet, dalk fisies (en vrywillig) onvrugbaar maar geestelik vrugbaar, word die toonbeeld van manlikheid in plaas van die paterfamilias (Olsen 2011:82–3; Kuefler 2001). Die huwelik en seksuele omgang is nie meer die bepalende waardes van manlikheid nie.
Na die gebeure in die Tuin van Eden manifesteer androgeneratiwiteit ook in ander oomblikke van Chrusostomus se heilsgeskiedenis. In die eerste geval het ons die wonderbaarlike verwekking van Isak by Sara. Dit is Sara se manlike deugsaamheid en fisiese onvrugbaarheid wat haar androgeneratiewe toestand kwalifiseer. Alhoewel Sara nie fisies ’n man is nie, beskryf Chrusostomus haar in hoogs manlike terme. In sy bespreking van Eva se androgeneratiewe skepping was biologiese geslagsverskil nie ’n faktor nie. Adam was ’n man, maar hy was veral manlik. “Sien jy hoe onafhanklik hulle [Sara en Ragel] van enige emosionele invloed [pathous ektos] was?” vra Chrusostomus (Homilie 38 oor Genesis 4, Migne 1857–86(53):352). Sara se “filosofiese ingesteldheid [tên filosofon gnômên] en die buitengewone mate van haar selfbeheersing [tês sôfrosunês tên huperbolên]” word beskou as hoogs manlike eienskappe (Homilie 38 oor Genesis 3, Migne 1857–86(53):351). Chrusostomus se voortdurende klem op Sara en Abraham se bejaardheid kan impliseer dat wellus ook nie ’n faktor in hierdie geval was nie. Abraham se seksuele omgang met Hagar word in dieselfde passielose lig gesien. (Dit is ook waarom dit nie as owerspel beskou word deur Chrusostomus nie; sien Homilie 38 oor Genesis 1–2, in Migne 1857–86(53):351–3; Homilie 20 oor Efesiërs 6, in Field 1852(4):313–4.) Sara en Abraham toon byna volmaakte psigiese beheer, soortgelyk aan die engele, en Adam. Verder, hoewel Sara wel deur middel van seksuele omgang met Abraham sanger word, bly die bevrugting wonderbaarlik.
Die bevrugting van Sara en die ander onvrugbare vroue van die Ou Testament speel ’n belangrike rol in Chrusostomus se breër androgeneratiewe raamwerk, aangesien hulle dien as voorlopers, of tipes, vir die maagdelike geboorte van Jesus (De Wet 2017:3–8), nog ’n geval van voortplanting wat die tekens van androgeneratiwiteit dra. Ons sien dit in Chrusostomus se interpretasie van die maagdelike geboorte van Jesus, spesifiek soos hy dit verduidelik in sy Homilie teen die bekendmaking van broers se sondes 7 en in Homilie 49 oor Genesis. Die verhaal van Sara is veronderstel om die Christengelowige voor te berei om Jesus se maagdelike geboorte te verstaan (oftewel te aanvaar). “Daar was toe twee hindernisse [vir Sara], beide die ontydigheid van haar ouderdom [d.i. haar bejaardheid] en die nutteloosheid van die natuur [d.i. haar onvrugbaarheid],” sê Chrusostomus, “maar in die geval van die Maagd was daar net een hindernis, naamlik om nie aan die huwelik deel te neem nie [d.i. seksuele voortplanting]. Die onvrugbare vrou berei dus die weg vir die Maagd.” (Homilie teen die bekendmaking van broers se sondes 7, Migne 1857–86(51):359.) Om fisies onvrugbaar en ongetroud te wees, is alles androgeneratiewe eienskappe (soos Adam wat oorspronklik ongetroud was en nie kinders kon baar soos ’n vrou nie). Dit is daarom ook nie ’n probleem dat Maria voor die huwelik swanger word en geboorte skenk nie, aangesien die geboorte nie onderworpe is aan postlapsariese voorwaardes van seksuele moraliteit nie. Chrusostomus disassosieer Maria behoorlik van die huwelik en seksuele voortplanting. Die feit dat Maria swanger is, maar nie getroud is nie, is nie ’n teken van skande nie. Sy is ’n maagd, net soos Adam en Eva voor die sondeval, en die maagdelike liggaam was op sigself ’n hoogs manlike liggaam in Christelike denke (Kuefler 2001:178–86). Wat teen Sara tel, naamlik die feit dat sy getroud is en nie ’n maagd nie, tel nie teen Maria nie. Chrusostomus (Homilie teen die bekendmaking van broers se sondes 7–8; Migne 1857–86(51):360) verduidelik soos volg:
Moenie die orde van die natuur hier soek nie, sê Gabriël vir Maria, wanneer dit wat aan die gebeur is bo die natuur is; moenie rondkyk vir die huwelik en wyses van die geboorte nie, aangesien die wyse van die geboorte groter is as die huwelik ... En swangerskap en bevrugting in die baarmoeder behoort aan die menslike natuur, maar dat die swangerskap sonder seksuele omgang moet plaasvind, is te voortreflik vir die menslike natuur. En vir dié doel het beide hierdie dinge gebeur, sodat julle sowel die voortreflikheid as die gesamentlike gemeenskap van die Geborene kan begryp.
Die geboorte van Christus word geïllustreer in duidelike androgeneratiewe terme. Terwyl Isak se wonderbaarlike geboorte gesien word as voorbereiding vir die maagdelike geboorte van Christus, word die liggaam van Maria, met die verwekking van Christus, as ’n tussenganger se liggaam beskou. Die feit dat dit nie volledig androgeneratief is nie, soos met Eva, is suggestief van Christus se menslike natuur; maar meeste van die ander androgeneratiewe eienskappe is aanwesig, naamlik Maria se maagdelikheid, die aseksuele en passielose verwekking van Christus en die aktiewe rol van God deur die Heilige Gees. In Maria se liggaam het ons die sameloop van al die nodige androgeneratiewe elemente. In Chrusostomus se “lae” Mariologie is die Maagd nie ten volle volmaak nie, en verdien sy ook nie ’n hoër soteriologiese posisie nie (Homilie 44 oor die Johannes-evangelie 3, Migne 1857–86(59):132). Hierdie liggaam van Maria baar dit wat volmaak en sondeloos is maar, volgens Chrusostomus, is sy self nie volmaak en sondeloos nie.
Chrusostomus se standpunt val ook binne die vroeë Christelike tradisie van die pynlose geboorte van Jesus, en hy bely die ewige maagdelikheid van Maria. Hy verklaar dat sy nie “die pyne van die geboorte” (ôdina) moet verwag nie. Die verwagting is dat Maria se liggaam ongeskonde bly, dat haar maagdelikheid nie deur seksuele omgang of normale bevalling geskend word nie. Soos Adam, bly sy ’n maagd voor en na die geboorte. Die geboorte is ’n “nuwe soort barensnood” (kainôn ôdinôn) en ’n “vreemde geboorte” (xenôn logeumatôn) (Homilie 44 oor die Johannes-evangelie 3, Migne 1857–86(59):132). Net soos Adam en Eva, en die hele mensdom, verdoem is tot ewige voortplanting deur seksuele omgang, verteenwoordig Maria se oorgangsliggaam nou ’n groot verskuiwing terug na ewige maagdelikheid en ideale androgeneratiwiteit. Soos die geboorte van Eva vir Adam pynloos was, so was die geboorte van Jesus ook pynloos vir Maria; soos God Adam se rib vervang het en sy sy reggemaak het, so word ook Maria se maagdelikheid herstel. Maria, en die maagde van die kerk wat later sal kom, is gevolglik bevry van die vloek van Eva, volgens Chrusostomus, en ontvang ’n groot mate van manlikheid. Ons moet nie bloot aanneem dat die antieke mense maagdelikheid as die teenwoordigheid van ’n maagdevlies beskou het nie. Daar was baie ander aanwysers wat maagdelikheid gekenmerk het (sien Kelly 2000:1–39; Lillis 2016:8–16). Chrusostomus was baie gekant teen maagdelikheidstoetsing. Hy het geglo dat ’n mens se karakter veral ’n teken van die maagdelike toestand was. (Sien Chrusostomus, Aangaande die noodsaaklikheid om maagdelikheid te bewaar 2.36–8, in Dumortier 1955:100; Aangaande die priesterskap 4.2.16–24, in Malingrey 1980:240–3; Aangaande maagdelikheid 60.1, in Musurillo en Grillet 1966:320–1; sien ook De Wet 2015:225–7.)
3.3 Androgeneratiwiteit ontwikkel klimakties en parallel met die Christelike heilsgeskiedenis
Androgeneratiwiteit ontwikkel dus klimakties en parallel met die Christelike heilsgeskiedenis (vanaf Adam, deur vroue soos Sara en ander onvrugbares, tot Maria), en wys daardeur hoe diskoerse van reproduksie en geboorte kruis met vroeë Christelike sienings van geskiedenis en histories-teologiese ontwikkeling. Chrusostomus (Homilie 5 oor Kolossense 4, in Field 1855(5):230–1) sê:
’n Vrou word uitsluitlik uit die man gevorm, en hy bly heel. Weereens, dit was nodig dat daar ’n bewys moes wees van die maagdelike verwekking. So baar die onvrugbare vrou, nie net een keer nie, maar ’n tweede en ’n derde keer, en baie keer. Die onvrugbare vrou is dan ’n tipe van sy geboorte van ’n maagd, en sy rig die verstand tot die toekoms na geloof. Weereens, dit was ’n tipe wat wys op God wat alleen kon verwek, want as die man die aktiewe agent is, en geboorte vind sonder hom plaas, veel meer is die een wat uit die goddelike aktiewe Agent verwek is. En daar is ’n ander verwekking, wat ’n tipe van die waarheid is – dit is ons s’n wat van Gees is. Die onvrugbare vrou is weereens van hierdie soort, dat dit ’n geboorte is nie uit bloed nie (Joh. 1:13). Dit verwys na die geboorte van bo (Joh. 3:3). Enersyds wys dit dat die verwekking sonder passie is; andersyds, dat dit uit een alleen verwek kon word. Dit is Christus wat daarbo is, wat oor alle dinge heers: dit was nodig dat dit geglo moes word.
Die finale manifestasie van androgeneratiwiteit, by die koms van die eschaton, word gesien in die wedergeboorte van Christene uit die Heilige Gees (ek pneumatos). Die geestelike geboorte van Christene, vir Chrusostomus, verteenwoordig die volle kringloop van androgeneratiwiteit. Die geboorte is geestelik, sonder fisiese geboortepyne, sonder passie, en dit kom van Christus, wat die ideale Man/Manlike is, die perfekte een, selfs groter as Adam. Al hierdie narratiewe kruis dus, in hul benutting van ideaal-tipiese androgeneratiewe eienskappe, op een of ander manier met die Eden-gebeurtenis en alles dui vir Chrusostomus op ’n transformasie na ’n ideale wyse van reproduksie deur die Gees en geloof. En hierdie tipe geboorte is wat ware ouerskap kwalifiseer (paidotrofia). Vir Chrusostomus is dit slegs wanneer hierdie tipe geestelike geboorte bewerkstellig word – ’n androgeneratiewe geboorte – dat moeders “ware” moeders word, en manlike moeders, daarby. Op hierdie wyse oorvleuel die belangrike konsep van paidotrofia, wat ons aan die begin van die artikel ondersoek het, met androgeneratiwiteit. Daar is ’n konsekwente historiese dissosiasie met fisiese geboorte, en die vroulike liggaam en teknogonia.
Ten slotte, wat ons dus moet besef, is dat geestelike wedergeboorte ’n hoogs manlike diskoers is, ten spyte van die aanwending daarvan in ’n metafoor, naamlik geboorte en moederskap, wat op sigself nogal vroulik en moederlik blyk te wees.
4. Gevolgtrekking
Die hoofvrae van hierdie studie was die volgende: aangesien die diskoers van voortplanting en geboorte voortgeduur het in die vroeg-Christelike denkraamwerk, met Johannes Chrusostomus as gevallestudie, hoe het dit verskuif van die konvensionele gebruik en begrip daarvan, wat hoofsaaklik op die vroulike liggaam en vroulikheid toegespits was? Watter vorm het die diskoers van voortplanting en geboorte aangeneem en hoekom?
Eerstens, volgens Chrusostomus se interpretasie van ’n teks soos 1 Tim. 2:15, sien ons ’n prominente verskuiwing van die idee van kinders baar (teknogonia) na kinderopvoeding (paidotrofia). Dit is ’n baie belangrike oomblik in die transformasie van die diskoers van voortplanting en geboorte, aangesien dit ’n hernude fokus op die korrekte sosiale en morele gedrag van kinders en ouers is. Dit bied aan ouers, veral moeders, die geleentheid om toegang te verkry tot een van die belangrikste sosiale waardes in die antieke wêreld – manlikheid. Trouens, deur die studie het ons die taal van manlikheid en vermanliking wat in die diskoers van voortplanting en geboorte gebruik word, duidelik waargeneem. Om kinders te baar is nie meer genoeg nie – dit gaan daaroor om hulle volgens die beginsels van Christelike moraliteit groot te maak.
Tweedens het ons gesien dat die manlike liggaam die lokus van ideale voortplanting en geboorte word. Dit kan gesien word as ’n onverwagte en verrassende ontwikkeling in Christelike denke. Ek het hierdie verskynsel androgeneratiwiteit genoem, en dit dien as die primêre integrasiepunt in die Christelike transformasie van voortplantings- en geboortediskoerse. Dit het begin met die liggaam van Adam as die primêre en ideale plek van voortplanting. Verder het die verhale van die onvrugbare vroue van die Ou Testament ook as voorbeelde van androgeneratiewe voortplanting gefunksioneer. Alhoewel hulle vroue was, het beide hul onvrugbaarheid en hul manlike deug, volgens Chrusostomus, hulle gekwalifiseer om voorbeelde, selfs tipes, van ideale androgeneratiewe voortplanting te wees. Ons moet daarom in gedagte hou dat dit die manlike (d.w.s. masculine) liggaam is wat die lokus van androgeneratiwiteit is. Dit is nie bloot die man se liggaam nie – nie alle mans, volgens Chrusostomus, was manlik nie. Vroue kon ook manlik wees, soos byvoorbeeld Sara en die ander onvrugbares van die Ou Testament. Hulle belangrikste doel was juis om gelowiges voor te berei vir die bevrugting en geboorte van Jesus deur die Maagd Maria, nog ’n voorbeeld van androgeneratiewe voortplanting. Ten slotte kan alle gelowiges ook deel hê aan geestelike wedergeboorte deur die Heilige Gees. Hierdie vorm van geestelike voortplanting en geboorte is ook androgeneratief.
Daar was drie kenmerke van androgeneratiewe voortplanting en geboorte in Chrusostomus se denke:
- Androgeneratiewe voortplanting veronderstel totale psigiese en liggaamlike volmaaktheid.
- Androgeneratiewe voortplanting skend en verander nie die liggaam nie.
- Androgeneratiwiteit ontwikkel klimakties en parallel met die Christelike heilsgeskiedenis.
Hierdie artikel toon gevolglik dat die diskoers van voortplanting en geboorte, in Chrusostomus se denke, getransformeer is deur die vorm van androgeneratiwiteit aan te neem. Manlikheid was die kern daarvan, en beide mans en vroue kon voortplantingsagente of reproduktiewe kapitaal in hierdie nuwe raamwerk wees. Die belangrikste is om te erken dat antieke Christelike bronne soos Chrusostomus ideale voortplanting en geboorte met manlikheid geassosieer het.
Bibliografie
Brändle, R. 2004. John Chrysostom: bishop–reformer–martyr. Vertaal deur J. Cawte en S. Trzcionka. Strathfield: St. Paul’s.
Brown, P.R.L. 1971. The world of late antiquity: AD 150–750. Londen: Thames & Hudson.
Caner, D.F. 2012. “Not of this world”: the invention of monasticism. In Rousseau (red.) 2012.
Clark, E.A. 1999. Reading renunciation: asceticism and scripture in early Christianity. Princeton, NJ: Princeton University Press.
De Wet, C.L. 2012. Claiming corporeal capital: John Chrysostom’s homilies on the Maccabean martyrs. Journal of Early Christian History, 2:3–21.
—. 2015. Preaching bondage: John Chrysostom and the discourse of slavery in early Christianity. Oakland: University of California Press.
—. 2017. Human birth and spiritual rebirth in the theological thought of John Chrysostom. In Die Skriflig, 51:1–9.
—. 2018. Old age, masculinity, and martyrdom in late antiquity: John Chrysostom and the Maccabean martyrs. Journal of Early Christian History, 8:43–67.
—. 2023. Fertility, slavery, and biblical interpretation: John Chrysostom on the story of Sarah and Hagar. Biblical Theology Bulletin, 53:250–62.
DiTommaso, L. en L. Turcescu (reds.). 2008. The reception and interpretation of the Bible in late antiquity: proceedings of the Montréal colloquium in honour of Charles Kannengiesser, 11–13 October 2006. Leiden: Brill.
Dumortier, J. (red.). 1955. Saint Jean Chrysostome: Les cohabitations suspectes; comment observer la virginité. Parys: Les Belles Lettres.
Field, F. (red.). 1847. Ioannis Chrysostomi interpretatio omnium epistularum Paulinarum. Vol. 2. Oxford: J.H. Parker.
—. (red.). 1852. Ioannis Chrysostomi interpretatio omnium epistularum Paulinarum. Vol. 4. Oxford: J.H. Parker.
—. (red.). 1855. Ioannis Chrysostomi interpretatio omnium epistularum Paulinarum. Vol. 5. Oxford: J.H. Parker.
—. (red.). 1861. Ioannis Chrysostomi interpretatio omnium epistularum Paulinarum. Vol. 6. Oxford: J.H. Parker.
Foucault, M. 2018. Les aveux de la chair. Parys: Gallimard.
Grung, A.H., M.B. Kartzow en A.R. Solevåg (reds.). 2015. Bodies, borders, believers: ancient texts and present conversations. Eugene, OR: Wipf & Stock.
Hersch, K.K. 2010. The Roman wedding: ritual and meaning in antiquity. Cambridge: Cambridge University Press.
Hildebrand, S. (vert.). 2011. St Basil the Great: on the Holy Spirit. Yonkers, NY: St. Vladimir’s Seminary Press.
Hill, R.C. 1981. Akribeia: a principle of Chrysostom’s exegesis. Colloquium: The Australian and New Zealand Theological Review, 14:32–6.
Hill, R.C. (vert.). 1999. St. John Chrysostom: Homilies on Genesis 1–17. Washington, DC: Catholic University of America Press.
Hunter, D.G. (vert.). 1988. A comparison between a king and a monk; Against the opponents of the monastic life: two treatises by John Chrysostom. Lewiston, NY: Edwin Mellen.
—. 2007. Marriage, celibacy, and heresy in ancient Christianity: the Jovinianist controversy. Oxford: Oxford University Press.
—. 2008. The reception and interpretation of Paul in late antiquity: 1 Corinthians 7 and the ascetic debates. In DiTommaso en Turcescu (reds.) 2008.
Kartzow, M.B. 2012. Navigating the womb: surrogacy, slavery, fertility – and biblical discourses. Journal of Early Christian History, 2:38–54.
—. 2015. Reproductive capital and slave surrogacy: thinking about/with/beyond Hagar. In Grung, Kartzow en Solevåg (reds.) 2015.
Kelly, J.N.D. 1998. Golden mouth: the story of John Chrysostom – ascetic, preacher, bishop. Ithaca, NY: Cornell University Press.
Kelly, K.C. 2000. Performing virginity and testing chastity in the Middle Ages. Londen: Routledge.
Krötzl, C., J. Kuuliala en K. Mustakallio (reds.). 2016. Infirmity in antiquity and the Middle Ages: social and cultural approaches to health, weakness and care. Abingdon: Routledge.
Kuefler, M. 2001. The manly eunuch: masculinity, gender ambiguity, and Christian ideology in late antiquity. Chicago: University of Chicago Press.
Laistner, M.L.W. (vert.). 1951. An address on vainglory and the right way for parents to bring up their children by Saint John Chrysostom, bishop of Constantinople. In Laistner (red.) 1951.
Laistner, M.L.W. (red.). 1951. Christianity and pagan culture in the later Roman Empire. Ithaca, NY: Cornell University Press.
Lillis, J.K. 2016. Paradox in partu: Verifying virginity in the Protevangelium of James. Journal of Early Christian Studies, 24:1–28.
Malatesta, M. (red.). 2015. Doctors and patients: history, representation, communication from antiquity to the present. San Francisco: University of California Medical Humanities Press.
Malingrey, A.-M. (red.). 1980. Jean Chrysostome: Sur le sacerdoce. Parys: Cerf.
Mayer, W. (vert.). 2006. The cult of the saints. Crestwood, NY: St. Vladimir’s Seminary Press.
Mayer, W. en P. Allen. 1999. John Chrysostom. Londen: Routledge.
McDonough, S.M. 2009. Christ as creator: origins of a New Testament doctrine. Oxford: Oxford University Press.
Migne, J.-P. (red.). 1857–86. Patrologiae cursus completus: Series graeca. 162 vols. Parys: Migne.
Muehlberger, E. 2013. Angels in late ancient Christianity. Oxford: Oxford University Press.
Musurillo, H. en B. Grillet (reds.). 1966. Jean Chrysostome: La virginité. Parys: Cerf.
Niiranen, S. 2016. Sexual incapacity in medieval Materia Medica. In Krötzl, Kuuliala en Mustakallio (reds.) 2016.
Olsen, G.W. 2011. Of sodomites, effeminates, hermaphrodites, and androgynes: sodomy in the age of Peter Damian. Toronto: Pontifical Institute of Mediaeval Studies.
Rigato, D. 2015. Medicines, doctors, and patients in Greek and Roman society. In Malatesta (red.) 2015.
Rousseau, P. (red.). 2012. A companion to late antiquity. Malden, MA: Wiley-Blackwell.
Shore, S.R. (vert.). 1983. John Chrysostom: on virginity; Against remarriage. Lewiston, NY: Edwin Mellen.
Solevåg, A.R. 2013. Birthing salvation: gender and class in early Christian childbearing discourse. Leiden: Brill.
Treggiari, S. 1991. Roman marriage: Iusti coniuges from the time of Cicero to the time of Ulpian. New York: Oxford University Press.
Van der Eijk, P.J. (red.). 1999. Ancient histories of medicine: essays in medical doxography and historiography in classical antiquity. Leiden: Brill.
Von Staden, H. 1999. Celsus as historian? In Van der Eijk (red.) 1999.
Walshe, T.M. 2016. Neurological concepts in ancient Greek medicine. Oxford: Oxford University Press.
Eindnotas
1 Daar is natuurlik uitsonderings hierop, soos veral in die Jovinianistiese polemiek blyk (sien Hunter 2007).
2 Die sogenaamde “Enkratiete” (van die Griekse woord, enkrateia, wat na self-dissipline verwys) het byvoorbeeld nie huwelike en seksuele omgang goedgekeur en toegelaat nie (sien Hunter 2008:163–91).
3 Aangaande reproduktiewe kapitaal (sien Kartzow 2012:38–54; 2015:396–409; De Wet 2023:250–62).
4 Alle Bybelvertalings is geneem uit die 1983 Afrikaanse Bybelvertaling.
5 Vertalings van Chrusostomus se tekste is my eie.
6 Soms gebruik Chrusostomus ook die meer algemene Griekse woord, paidopoiia, om kinders te maak, in hierdie verband.
7 Dit is vandag algemeen aanvaar onder Bybelwetenskaplikes dat Gen. 1–2 twee skeppingsverhale bevat (Gen. 1:1–2:3 en 2:4–2:25). Chrusostomus het egter nie hierdie aanname nie, en benader die skeppingsverhale as een vertelling.
8 Dié begrip is my eie neologisme, en is saamgestel uit die Griekse woord vir man, naamlik anêr/andros, en die idee van generasie of voortspruiting (genêsis).
9 Die klassieke voorbeeld hier is Basilius die Grote se gedetailleerde verduidelikings van doksologiese voorsetselfrases wat verband hou met die Drie-Eenheid en die Heilige Gees in sy werk, Aangaande die Heilige Gees 1–5:25–9 (sien Hildebrand 2011).
- Hierdie artikel se fokusprent bevat ’n foto van Ponte Sant’Angelo deur Tamara Malaniy wat verkry is op Unsplash.
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.
The post Johannes Chrusostomus en die transformasie van die diskoers van voortplanting en geboorte in die vroeë Christendom first appeared on LitNet.
The post Johannes Chrusostomus en die transformasie van die diskoers van voortplanting en geboorte in die vroeë Christendom appeared first on LitNet.