|
Opsomming
Affiksoïede is komponente in komplekse morfologiese konstruksies wat vormlik met bestaande, onafhanklike woorde ooreenstem, maar ’n spesifieke betekenis in bepaalde konstruksies het. In die meeste gevalle hou die betekenis van affiksoïede in affiksoïedkonstruksies nie met die woordeboekbetekenis van die onafhanklike woord verband nie. Voorbeelde van affiksoïede is die prefiksoïede hond÷ en kak÷ in hond÷warm en kak÷mooi onderskeidelik en die suffiksoïed ÷bedonnerd in bybel÷bedonnerd. In die eerste voorbeeld dra hond÷ slegs die betekenis van “baie” tot die konstruksie se betekenis (“baie warm”) by – dit hou geensins met die woordeboekbetekenis van hond as “vierpotige dier” verband nie. In prefiksoïedkonstruksies is die affiksoïed dus die eerste komponent, byvoorbeeld hond÷ en kak÷ in voormelde voorbeelde, terwyl dit by suffiksoïedkonstruksies die tweede komponent is, byvoorbeeld ÷bedonnerd in bybel÷bedonnerd. Prefiksoïede met ’n evaluerende betekenislading word gebruik om intensiverende betekenisse aan te dui, terwyl suffiksoïede se betekenismoontlikhede meer variasie toon en byvoorbeeld na ’n beheptheid met iets of na ’n persoon kan verwys. Literatuur oor prefiksoïede wys op die intensiveringsfunksie daarvan (Hoeksema 2012; Stratton 2020), terwyl studies oor suffiksoïede grootliks op persoonsvormende suffiksoïede soos ÷kop en ÷kous fokus (Ruppenhofer, Wiegand, Wilm en Markert 2018; Wante 2009).
Bestaande studies oor affiksoïede is soms taalvergelykend en hoofsaaklik tot die gebruik daarvan in Nederlands, Sweeds en/of Duits beperk (Battefeld, Leuschner en Rawoens 2018; Booij 2010; Booij en Hüning 2014; Ruppenhofer e.a. 2018). In Trollip (2021, 2022) word die betekenismoontlikhede van Afrikaanse affiksoïedkonstruksies beskryf en aan die hand van korpusdata uit die versamelings van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) en konstrukte in die kognitiewe grammatika verklaar. In hierdie artikel is die fokus uitsluitlik op die beskrywing van Afrikaanse prefiksoïede.
Hierdie artikel is ’n verwerkte weergawe van die afdeling in Trollip (2022) waarin prefiksoïedkonstruksies in Afrikaans in die breër konteks van Afrikaanse morfologiese evalueringskonstruksies beskryf word.
Trefwoorde: affiksoïed; Afrikaans; intensivering; morfologie; prefiksoïed
Abstract
A usage-based description of prefixoids in Afrikaans
Affixoids are components of complex morphological constructions that correspond to existing, independent words concerning form, but have specific meanings when used in specific constructions. In most cases the meaning of affixoids in affixoid constructions does not correspond to the dictionary meanings of the independent words. Examples of affixoids in Afrikaans include hond÷ ‘dog÷’ in hond÷warm, ‘dog÷hot’, “very hot”, kak÷ ‘shit÷’ in kak÷mooi, ‘shit÷beautiful’, “stunning”, and ÷bedonnerd ‘÷angry’ in bybel÷bedonnerd ‘bible÷angry’, “obsessed with the bible”. In the first example hond÷ contributes only the meaning “very” to the meaning of the construction that has only the meaning of “very warm”, with the literal or denotative meaning of hond, “dog” as a four-legged animal not being present. In prefixoid constructions the affixoid is the first component, like hond÷ and kak÷, while in suffixoid constructions it is the second component, as is the case with ÷bedonnerd.
The aim of this article is to provide a description of Afrikaans prefixoid constructions from a cognitive, usage-based perspective. To formulate this description it was necessary to consider existing literature describing prefixoids in related languages like Dutch and German. The use of available textual data in Afrikaans was also important, seeing that a description of linguistic phenomena necessitates data representing the actual use thereof. The textual data used for the description of prefixoid constructions in Afrikaans was sourced from collections featured in the corpus portal of the Virtual Institute for Afrikaans (VivA). VivA offers both a comprehensive and an exclusive corpus collection ranging from edited to semi-edited and non-edited text. This article is a reworked version of the section in Trollip (2022) describing Afrikaans prefixoids in the broader context of morphological evaluative constructions.
The literature shows a general consensus of the structure and intensifying meaning of prefixoids across languages (Hoeksema 2012; Efthymiou 2017; Stratton 2020). Intensification being a prototypical characteristic of gradable concepts, adjectives are commonly taken as input for intensifying prefixoids. For example, one person subjectively experiencing the weather as cold means it is possible for someone else to experience and describe the same situation as very/extremely/icy cold. While non-taboo prefixoids tend to take seemingly arbitrary animal names as input (e.g. hond, “dog” in Afrikaans and sau, “sow” in German), a range of taboo words is used effectively in complex morphological constructions aimed at communicating intensified meanings. It became apparent from the literature that prefixoid constructions should be described in terms of their form, meaning and use and that a main distinction between non-taboo and taboo prefixoids could be drawn.
In the case of non-taboo Afrikaans prefixoids, the one currently used productively is hond÷. Where other animal names are used, there are still signs that a comparative relationship prevails between the components, e.g. muis+stil, ‘mouse silent’, “as silent as a mouse”. The evidence of hond÷ being used as a prefixoid is corroborated by the available data that indicates its use with a diverse range of adjectives, including mooi, “beautiful”, sleg, “bad” and skelm, “cunning”. Even though the productivity value of these types of constructions seems low – ranging from 0,06 to 0,1 in the different corpus collections – it should be considered that these constructions are possibly still restricted to more informal (unwritten) contexts in which strict rules governing spelling and grammar do not necessarily apply.
When considering taboo prefixoids in Afrikaans, the data confirms a range of popular and more peripheral options for intensification. The popular choices for Afrikaans users are kak÷, “shit” and poes÷, “pussy”, while tos÷, “masturbate” and fok÷, “fuck” are less common. The productivity values of these constructions are highly influenced by the abovementioned factor, meaning that they are meaningful when compared with one another, rather than arbitrarily with other types of constructions. An interesting observation from the data, when considering the accepted use of intensifying adjectives, is the use of kak÷ and poes÷ to intensify nouns or other word categories. Without more/diachronic data it is unfortunately not possible to say with certainty whether this is a natural path that (some) prefixoids follow.
This article offers a synchronic, usage-based description of Afrikaans prefixoids. This description could form a basis for future diachronic and/or contrastive research when considering the tendency to compare these kinds of constructions in related languages like Dutch, German and Swedish. The development, annotation and availing of historical corpora representing the use of Afrikaans across time and genres will enable more linguistic enquiry on the topic of prefixoids.
Keywords: affixoid; Afrikaans; intensification; morphology; prefixoid
1. Inleiding
’n Affiksoïed is ’n woorddeel wat geklassifiseer kan word as nóg ’n woord, nóg ’n affiks. Volgens Booij en Hüning (2014:78) het affiksoïede, wat op komponente van komposita lyk, ’n spesialisbetekenis wanneer hulle in sommige komplekse konstruksies (waar ’n konstruksie na enige vorm-betekenis-paar verwys)1 as komponent gebruik word. ’n Voorbeeld van ’n woord wat as affiksoïed in Afrikaans gebruik word, is dood÷ in konstruksies soos dood÷normaal en dood÷rustig.2 In albei hierdie konstruksies dra dood÷ slegs by tot die konstruksies se algemene, grammatikale betekenis wat intensiverend van aard is. Teenoor hierdie gebruike staan dood+ in komposita soos dood+s·kis en dod+e·mars, waar dood met die letterlike betekenis daarvan gebruik word. Daar is al ’n gevestigde literatuur vir die bestudering van affiksoïede in onder andere Nederlands en Duits, wat ouer bronne soos Schmidt (1987), Motsch (1996) en Van den Toorn (1983) asook onlangse bronne soos Hartmann (2019) en Stratton (2020) insluit. Benewens die onlangse beskrywing van affiksoïede in die konteks van Afrikaans morfologiese evalueringskonstruksies in Trollip (2022) ontbreek daar egter nog beskrywende en eksperimentele werk oor Afrikaanse affiksoïede.
In hierdie artikel word ’n omvattende beskrywing van Afrikaanse prefiksoïede met betrekking tot hulle vorm, betekenis en gebruik aangebied. Vir die doeleindes van hierdie artikel word tussen taboes en nietaboes onderskei. In afdeling 2 word nietaboes in die vorm van diername wat as prefiksoïede gebruik word – hoofsaaklik hond÷ – bespreek, terwyl taboeprefiksoïede in afdeling 3 bespreek word. Hierdie hoofafdelings word verder onderverdeel tussen aspekte rakende die vorm, betekenis en gebruik van die konstruksies. Waar nodig, is daar ’n bykomende onderafdeling met opmerkings. Die beskrywing van prefiksoïede word gedoen aan die hand van ’n datastel gebruiksdata, waarvan die metadata aanlyn beskikbaar is en in Trollip (2022) in meer besonderhede beskryf word.3 Die data is onttrek en saamgestel uit die versamelings vervat in die Virtuele Instituut vir Afrikaans se omvattende korpusversameling (VivA-KPO) en eksklusiewe korpusversameling (VivA-KPE). Voorbeeldsinne en -konstruksies wat ter illustrasie in hierdie artikel aangehaal word, is direk uit VivA-KPO of VivA-KPE gelig en geen veranderings is aan spel- of tikfoute gemaak nie.
2. Konstruksies met ’n prefiksoïed (K1) en ’n adjektief (K2): die tipe hond÷siek
In hierdie afdeling word konstruksies soos hond÷bang en hond÷koud in (1) en (2) bespreek waarin hond÷ bydra tot die algehele betekenis van die konstruksie wat ‘baie bang’ en ‘baie koud’ beteken.
(1) | Droom verder Toon weereens die senior ANC kaders is hondbang om hul ondergeskiktes aan te tree. |
(2) | Ek SMS huistoe: “Triesige weer, hondkoud, gatnat, sien uit na Dana se praaitjie.” |
(VivA-KPO/VivA-KPE)
2.1 Vorm
Die vorm van hond÷siek-konstruksies (morfologiese evalueringskonstruksies) kan skematies as die skema in (3) voorgestel word.
(3) | [[a÷]n [b]adj]adj ⇔ [baie semadj], | |
waar [a]n = diernaam onverwant aan semadj | ||
≈ | ||
(4) | [[a÷]n [b]adj]adj ⇔ [so semadj soos ’n semn], | |
waar [a]n = diernaam wat semadj as kenmerkende eienskap het |
Ander voorbeelde van hierdie tipe konstruksie is hond÷warm, hond÷siek, hond÷lelik en hond÷zef in (5)–(8) (sien afdeling 2.2 vir voorbeelde met ander diername). Hierdie tipe konstruksie is soortgelyk aan, maar anders as, vergelykingskonstruksies met diernaamintensiveerders in Afrikaans. Twee voorbeelde is hond+ in hond+mak en hond+s·getrou in (9) en (10). Die voorbeelde in (9) en (10) is anders as (5)–(8) in soverre ’n vergelykende betekenis tussen die komponente in (9) en (10) bestaan. Die voorbeelde in (5)–(8) is komplekse konstruksies wat uit ’n prefiksoïed en ’n adjektief bestaan soos in (3), terwyl (9) en (10) komposita is wat uit ’n diernaam en adjektief bestaan soos in (4). Die verhoudings tussen hierdie betekenisonderskeidings word grafies in Figuur 1 uitgebeeld, naamlik hoe vergelykende konstruksies en konstruksies met prefiksoïede met mekaar verband hou. Heel bo is hond+s·getrou, met ’n soliede pyl wat na hond+mak wys, aangesien ons van die vooronderstelling kan uitgaan dat hond+mak ’n uitbreiding van hond+s·getrou is (die omgekeerde sou ook waar kon wees, maar nie vir doeleindes van die huidige bespreking van kardinale belang nie). Tussen hond+mak en hond÷lelik dui ’n stippelpyl aan dat die betekenis van hond÷ evaluerend geraak het en nie meer letterlik met die adjektief verband hou nie. Die rede vir die gebruik van hond÷lelik in Figuur 1 is dat dit reeds in die e-WAT (2022) as lemma aangeteken4 is, wat op ’n mate van vestiging in die Afrikaanse mentale leksikon dui. Dit is dus nou ’n prefiksoïed, soos deur die ÷ aangedui word. Aan die regterkant van die figuur wys soliede pyle na hond÷siek, hond÷warm en hond÷zef om die uitbreiding van die evaluerende betekenis vanaf hond÷lelik aan te dui. Die donkerder omlyning van die vier prefiksoïedkonstruksies dui op die prominensie van die spesifieke konstruksies met verwysing na hul frekwensies soos dit in die korpusversamelings voorkom.
(5) | Sy t-hemp is agter sy pt-broek ingesteek (vermoedelik omdat dit hondwarm is) – dit hang soos ’n stert bo sy plumbers-crack en hy is kaalvoet. |
(6) | Hoeveel Transvalers deur Eucrasy van hul swakhede genees is, is onbekend; dat baie hondsiek daarvan geword het, is seker. |
(7) | Is totally geskok as jy dalk voor hom ’n wind los, maar sal dit aanvaar. Die probleem is, hy’s vervelig of hondlelik. |
(8) | Dis hondzef om moeg by die werk te wees, maar naweke is daar nie brieke nie. |
(9) | Dis ’n bergskilpad en hul word hondmak en ’n blote plesier om te he. |
(10) | in my lang bloedgange omhels ek jou versuipte donker engel in die swart wyn of asyn wat uit jou vyf vriende hondsgetrou drup en soms stol tot drolle rol ek in ontsettende vreugde in jou woordtorinkie |
(VivA-KPO/VivA-KPE)
Figuur 1. Verwantskap tussen konstruksies met hond+ en hond÷
As ’n mens die struktuur van hond÷-tipe konstruksies oorweeg, is die eerste eienskap wat ’n mens opval dat hulle uit twee komponente bestaan: ’n diernaam wat as intensiveerder sonder vergelykingsbasis optree, en ’n adjektief. ’n Tweede eienskap van hierdie tipe konstruksies blyk die afwesigheid van valensiemorfeme (oftewel interfikse) te wees. Voorbeelde van interfikse in Afrikaans is die ·e· in neut+e·dop en die ·s· in huwelik+s·berig. Studies waarin valensiemorfeemgebruik in hierdie soort konstruksies in Nederlands en Duits aandag geniet, sluit Booij (2010), Booij en Hüning (2014) en Smedts (2007) in. Terwyl valensiemorfeme terloops in die eerste twee bronne bespreek word, is Smedts (2007) se fokus uitsluitlik daarop in Nederlandse “dikke woorde”, oftewel intensiewe vorme. ’n Nederlandse spelreël, naamlik uitsonderingsreël 8F (Nederlandse Taalunie 2005:664), of die sogenaamde beresterkregel (Smedts 2007:253), maak uitdruklik voorsiening vir die gebruik van die ·e·-valensiemorfeem in hierdie tipe konstruksies. Die valensiemorfeem onderskei hierdie tipe konstruksies struktureel van ander N+ADJ-adjektiefkomposita deur die ·e·-valensiemorfeem ’n vereiste te maak. Hierdie reël is spesifiek van toepassing op die gevalle waar naamwoorde die eerste komponent is en die konstruksie ’n intensiewe betekenis het, soos in Ndl. ap÷e·trots (“aap÷lk·trots” ‘baie trots’) en Ndl. ber÷e·sterk (“beer÷lk·sterk” ‘baie sterk’), waar die ·e·-valensiemorfeem volgens Booij (2010:56) ’n onweglaatbare onderdeel van hierdie tipe konstruksies in Nederlands is. Verder dien die gebruik van die ·e·-valensiemorfeem in byvoorbeeld Ndl. reuz÷e·bekakt (“reus÷lk·snobisties” ‘baie snobisties’) as verwysing na reus wat oorspronklik as onafhanklike naamwoord gebruik is (Booij en Hüning 2014:88). Waar die komponente in ’n ‘soos’-verhouding teenoor mekaar staan, soos in Ndl. rav+en·zwart (“raaf+lk·swart” ‘so swart soos ’n raaf’), moet die Nederlandse ·en·-valensiemorfeem gebruik word. Ingevolge hoofreël 8.1 (Nederlandse Taalunie 2005:59) is dit verpligtend om die ·en·-valensiemorfeem te gebruik wanneer die eerste komponent ’n selfstandige naamwoord is waarvan die meervoudsvorm met ·en eindig. Die verpligtheid van die ·s·-valensiemorfeem in Nederlandse konstruksies soos Ndl. hond÷s·min (“hond÷lk·min” ‘baie min’) en Ndl. hond÷s·honger (“hond÷lk·honger” ‘baie honger’) is nog nie ondersoek nie.
’n Soortgelyke spelreël kon nie vir Duits gevind word nie. Die Dudenwoordeboek meld hund÷e· as Duitse prefiks, maar nie hund÷s· nie. Dit blyk egter duidelik uit voorbeelde wat deur onder andere Balci (2007), Leuschner en Decroos (2007) en Meibauer (2013) genoem word, dat sowel hund÷e· as hund÷s· in Duitse prefiksoïedkonstruksies gebruik word. Die voorbeeldkonstruksies uit hierdie bronne word in (11) gelys.
(11) | hund÷e·mager (“hond÷lk·maer” ‘baie maer’) |
hund÷s·miserabel (“hond÷lk·ellendig” ‘baie ellendig’) | |
hund÷e·slecht (“hond÷lk·sleg” ‘baie sleg’) | |
(Balci 2007) | |
hund÷e·elend (“hond÷lk·ellendig” ‘baie ellendig’) | |
hund÷e·müde (“hond÷lk·moeg” ‘baie moeg’) | |
hund÷e·übel (“hond÷lk·siek” ‘baie siek’) | |
(Leuschner en Decroos 2007) | |
hund÷s·gemein (“hond÷lk·gemeen” ‘baie gemeen’) | |
(Meibauer 2013) |
’n Voorbeeld van hoe die gebrek aan ’n valensiemorfeem hierdie konstruksie in Afrikaans kan kenmerk, is die verskil tussen hond÷kak en hond+e·kak. Die verskil tussen hierdie konstruksies is dat eersgenoemde ’n N+ADJ-kompositum en laasgenoemde ’n N+N-kompositum is. Die vorm sonder die valensiemorfeem dui op hond÷ wat as intensiveerder gebruik word, terwyl die vorm met die valensiemorfeem ’n N+N-kompositum is waarin ’n genitiewe verhouding tussen die komponente geld. ’n Mens sou honde+e·kak kon parafraseer as ‘’n hond se kak’.
’n Algemene voorbeeld waarin ’n naamwoord en ’n adjektief met die ·s·-valensiemorfeem verbind, is hond+s·getrou in Afrikaans.5 Die gebruik in Afrikaans blyk egter te wees om valensiemorfeme weg te laat om (a) intensiewe betekenisse of (b) adjektiewe as tweede komponente aan te dui. Dit blyk meer spesifiek uit Tabel 1 (sien afdeling 2.3 waar die gebruik van die konstruksies bespreek word) dat konstruksies soos hond÷s·taai en hond÷s·bang uitsonderlik is en selde voorkom.
2.2 Betekenis
Die prefiksoïed hond÷ in ’n konstruksie soos hond÷siek dra tot ’n intensiverende betekenis by. Aangesien die betekenis nie aan die leksikale betekenis van die lekseem hond verwant is nie, is dit slegs moontlik om hierdie tipe konstruksies as ‘baie X’ te parafraseer, byvoorbeeld ‘baie siek’. In ’n konstruksie soos hond+mak is die letterlike betekenis van hond nog teenwoordig (‘so mak soos ’n hond’), maar in hond÷siek is dit duidelik dat hond÷ gegrammatikaliseer is en slegs die betekenis van ‘baie’ het. In hierdie verband beklee hond÷ in Afrikaans ’n spesiale posisie, aangesien:
- ander konstruksies waar die eerste stam ’n diernaam is, óf as ’n vergelyking geparafraseer moet word óf op slegs een of twee adjektiewe van toepassing is (byvoorbeeld perd÷); en
- hond÷ nie ’n taboewoord (soos byvoorbeeld pis÷) of adverbium (byvoorbeeld bitter) is nie, maar gereeld saam met verskillende adjektiewe optree.
Met die uitsondering van perd÷ in perd÷fris en perd÷gerus kom ander diername in Afrikaans meestal as eerste komponent in kombinasies met een (kenmerkende) adjektief voor, soos slak+stadig en muis+stil in (12) en (13) illustreer. In Afrikaans is perd÷ byna vergelykbaar met hond÷, aangesien die twee konstruksies met perd÷ ’n intensiverende betekenis het: In perd÷fris en perd÷gerus se geval kan die onderskeie konstruksies slegs as ‘baie fris’ en ‘baie gerus’ geparafraseer word. Die rede waarom hond÷ en perd÷van taboes en adverbia onderskei word soos in die tweede kolpunt hier bo aangedui, is dat albei prefiksoïede (a) nie inherent emotief soos taboewoorde is nie, en (b) nie soos bitter of baie as adverbia gebruik word nie. Tans lyk dit of die gebruik van hond÷ en perd÷ in Afrikaans as intensiverende prefiksoïede arbitrêr is, net soos die gebruik van sau÷ in Duits en ap÷e· en ber÷e· in Nederlands arbitrêr is. Dit is nie duidelik waarom ’n mens nie byvoorbeeld katgroot of katlelik, of beesfris of beesgerus in korpusdata aantref nie.
(12) | Dit het die kar swaar en stadig gemaak; inderdaad só slakstadig, dat die Ferrari nie sy bande genoeg kon opwarm om greep deur die draaie te kry, om vinniger te ry, om meer bandhitte en daarom meer greep te genereer nie. |
(13) | Robbie maak hom so klein as moontlik en sit muisstil. |
(VivA-KPO)
’n Periferale dog interessante geval waarin ’n diernaamintensiveerder anders as hond÷ en perd÷ ontwikkel het, is stapel÷ soos in stapel÷gek (‘heeltemal of baie gek’). Volgens Van der Sijs (2001:540) is stapel ’n Middelnederlandse woord vir kriek, en die eerste opgetekende gebruik daarvan met die intensiverende betekenis is in 1640 in Nederlands. Hierdie konstruksie is in Afrikaans oorgeërf sonder dat die betekenis eers ‘so gek soos ’n kriek’ was. Esterhuizen (1974:16) wys ook op stapel as ’n ou woord vir kriek en dat stawelgek as ’n geassimileerde vorm in Afrikaans bekend is. Die enigste voorkoms van stawelgek in VivA-KPO is in (14) waar stawelgek naas stapel÷gek in ’n vraag aangebied word vir die leser om die regte antwoord te kies.
(14) | hulle sê hy’s nou { stawelgek / stapelgek }. toe sê ek vir hom in sy gesig { lat / dat } hy gek is. |
(VivA-KPO)
Ander Nederlandse konstruksies waarin stapel÷ intensiverend optree, sluit stapel÷dol, stapel÷mooi en stapel÷zat in. In VivA-KPO tree stapel÷ in enkele ander konstruksiesintensiverend op, soos stapel÷dik, stapel÷hoog en stapel÷mal, waarvan laasgenoemde die enigste konstruksie is wat nog konseptueel met stapel÷gek verbind kan word. In die enkele konstruksies wat nog gebruik word, is stapel÷ se betekenis egter totaal verbleik, soos dood÷ wat in afdeling 3.3.1 bespreek word. ’n Soektog vir konstruksies met kriek÷, as die moderne woord vir stapel÷, as eerste komponent in VivA se korpusversamelings het die hapax legomenon (’n konstruksie wat slegs een keer voorkom) kriek÷alleen in (15) opgelewer. Hierdie konstruksie blyk egter ’n geleentheidskepping te wees en dit is onwaarskynlik dat kriek÷ as prefiksoïed sal ontwikkel.
(15) | Julle moet net gaan kyk hoe ek, kriekalleen, al die skuilbosse daar voor die grot platgetrap het. |
(VivA-KPO)
’n Ander geval waar ’n diernaam as intensiveerder ontwikkel het vóór dit ’n vergelykende interpretasie gekry het, is die Nederlandse ber÷e·, byvoorbeeld in ber÷e·goed (“beer÷lk÷goed” ‘baie goed’). Volgens Van der Sijs (2001:538) is die intensiverende betekenis van ber÷e· vóór die vergelykende betekenis opgeteken: ber÷e·goed reeds in 1961 en ber÷e·sterk eers in 1971. Hierdie observasie is baie belangrik, aangesien dit oor die algemeen aanvaar word dat letterlike vergelykings mettertyd grammatikaliseer om figuurlike of intensiverende betekenisse in intensiewe vorme te kry. Van der Sijs meen dat leksikograwe moontlik na ’n verklaring van ber÷e· gesoek het en daarom ber÷e·sterk ‘so sterk soos ’n beer’ in ’n later weergawe van die Van Dale ingesluit het om ber÷e·goed te help verklaar. Daar is beslis ’n moontlikheid om hierdie verskynsel in Afrikaans, met genoegsame diachroniese korpusdata, in toekomstige studies na te speur.
2.3 Gebruik
Die voorkoms van hond÷ en perd÷ in VivA-KPO en VivA-KPE word in Tabel 1 opgesom en volgens korpusversameling verdeel. Die hond÷-konstruksie met die laagste woordfrekwensieklas (hierna N)6 – met ander woorde, met die hoogste rou frekwensie in vergelyking met die – is hond÷kak (N=15) in VivA-KPE. Die konstruksies met die laagste N in VivA-KPO is hond÷siek, hond÷sleg en hond÷moeg (N=20) saam met 10 van die 11 hond÷-konstruksies in VivA-KPE. Die hapax legomena (hierna hapaxe) in VivA-KPO, waarvan daar 18 is, se N=24, wat op ’n baie lae voorkoms van hierdie konstruksies in die betrokke korpusversameling dui. Geen afleidings kan oor hierdie konstruksies in Afrikaans gemaak word sonder bykomende en gestratifiseerde data nie, maar daar is ’n identifiseerbare tendens wat daarop dui dat hond÷ besig is om te grammatikaliseer, aangesien die hoë voorkoms van hapaxe tekenend is van ’n morfeem se produktiwiteit. In VivA-KPO is hond÷ se produktiwiteitswaarde (hierna P) 0,06, en in VivA-KPE is hond÷ se P=0,1, terwyl daar geen hapaxe met perd÷ is nie en perd÷ daarom hoegenaamd nie produktief is nie.
In VivA-KPO is perd÷fris se N=17 en perd÷gerus se N=22; in VivA-KPO is perd÷fris se N=17, terwyl perd÷gerus nie in die versameling voorkom nie. Dit wil lyk asof perd÷gerus se gebruik beperk is en perd÷fris die prototipiese konstruksie vir perd÷ is. Daar is nie hapaxe met perd÷ soos in die geval van hond÷ nie, wat daarop dui dat perd÷ glad nie gegrammatikaliseer is nie.
Tabel 1. Woordfrekwensieklas (N) van hond÷- en perd÷-konstruksies
VivA-KPO | VivA-KPE | |||||
MEK | N | Trefslae | MEK | N | Trefslae | |
hond÷ | ||||||
die = 14 058 066 | die = 1 080 247 | |||||
hondmoeg | 20 | 13 | hondkak | 15 | 27 | |
hondsiek | 19 | 19 | hondsiek | 18 | 5 | |
hondsleg | 19 | 19 | hondmak | 18 | 4 | |
hondkak | 21 | 9 | hondsleg | 18 | 4 | |
hondlelik | 22 | 4 | hondlelik | 18 | 3 | |
hondzef | 22 | 4 | hondpoes | 19 | 2 | |
hondstaai | 23 | 2 | hondtos | 19 | 2 | |
hondbly | 24 | 1 | hondbang | 20 | 1 | |
hondejaloers | 24 | 1 | hond-ou | 20 | 1 | |
hondgoor | 24 | 1 | hondskelm | 20 | 1 | |
hond-hard | 24 | 1 | hondswak | 20 | 1 | |
hondjammer | 24 | 1 | hondwarm | 20 | 1 | |
hondkoud | 24 | 1 | ||||
hondlaag | 24 | 1 | ||||
hondmaklik | 24 | 1 | ||||
hondmoeilik | 24 | 1 | ||||
hondnat | 24 | 1 | ||||
hondsarm | 24 | 1 | ||||
hondsbang | 24 | 1 | ||||
hondsellendig | 24 | 1 | ||||
hondshonger | 24 | 1 | ||||
hondslui | 24 | 1 | ||||
hondvervelig | 24 | 1 | ||||
hondwarm | 24 | 1 | ||||
perd÷ | ||||||
perdfris | 17 | 141 | perdfris | 17 | 10 | |
perdgerus | 22 | 4 |
Nieteenstaande die verskil in die korpusgroottes is dit opmerklik dat 27 unieke hond÷-konstruksies in VivA-KPO en 12 in VivA-KPE voorkom. In VivA-KPE verbind hond÷ met taboewoorde met negatiewe betekenismomente, soos kak, poes en tos. Die meerderheid van die hapaxe in VivA-KPO (15 van die 17) is ook adjektiewe met ’n negatiewe betekenislading, byvoorbeeld goor, honger, lui en vervelig. ’n Tweede waarneming is dat die betekenis van hond÷ in hierdie adjektiefverbindings slegs tot die betekenisonderskeid van ‘baie’ bydra, en geensins ’n vergelykende verhouding aandui nie.
’n Semantiese kategorisering van die adjektiewe waarmee hond÷ in Afrikaans kombineer, kan meer insig rondom hierdie konstruksies se gebruik en ontwikkeling in Afrikaans bied. ’n Stel semantiese kategorieë waarin adjektiewe verdeel kan word, is dié van Hundsnurscher en Splett (1982). Hulle onderskei 16 hoofkategorieë wat verder onderverdeel kan word, soos uiteengesit vir doeleindes van GermaNet (Eberhard Karls Universität Tübingen 2020). Kyk Tabel 2 vir ’n opsomming van die tale en adjektiewe waarmee minstens een diernaam-intensiveerder met ’n spesifieke adjektief verbind. In die eerste kolom verskyn die Afrikaanse vertaling van die adjektief waarmee die prefiksoïed verbind, terwyl die tipe adjektief as een van Hundsnurscher en Splett (1982) se 16 moontlikhede in die tweede kolom aangedui word. In kolomme 1–7 word aangedui of die betrokke konstruksie in onderskeidelik Duits, Nederlands, Afrikaans, Grieks of Engels voorkom. Die simbole wat in die tabel gebruik is, is die volgende:
- + dui aan dat hond÷ as prefiksoïed gebruik word
- ∆ dui aan dat sog÷ as prefiksoïed gebruik word
- ◊ dui aan dat perd÷ as prefiksoïed gebruik word
- □ dui aan dat aap÷ as prefiksoïed gebruik word
- ○ dui aan dat beer÷ as prefiksoïed gebruik word.
Tabel 2. Opsomming van die adjektiewe waarmee diernaamprefiksoïede verbind
Vertaalde Afrikaanse adjektief | Adjektief se semantiese kategorie | D. | Ndl. | Afr. | Gr. | Eng. |
goed | algemeen: evaluering | ○ | ||||
sleg | algemeen: evaluering | ∆ + | ○ | + | ||
zef | algemeen: evaluering | + | ||||
pragtig | algemeen: vergelyking | ∆ | ||||
mak | gedrag: dierspesifiek | + | ||||
lui | gedrag: gedrag/karakter | + | ||||
stout | gedrag: gedrag/karakter | ∆ | ||||
brutaal | gedrag: neiging | + | ||||
gemeen | gedrag: neiging | + | ||||
snaaks | gedrag: neiging | ∆ | ||||
dom | geestelike aspek: intelligensie/aandag | ∆ | ||||
onnosel | geestelike aspek: intelligensie/aandag | ∆ | ||||
beroerd | gemoed: gevoel | + | ||||
bly | gemoed: gevoel | + | ||||
ellendig | gemoed: gevoel | + | + | |||
kak | gemoed: gevoel | + | ||||
bang | gemoed: stimulant | + | ||||
dronk | gemoed: stimulant | □ | ||||
gerook | gemoed: stimulant | □ ○ | ||||
gerus | gemoed: stimulant | ◊ | ||||
jags | gemoed: stimulant | ∆ | □ | |||
kwaad | gemoed: stimulant | + | ||||
trots | gemoed: stimulant | □ | ||||
verveeld | gemoed: stimulant | + | ||||
vervelig | gemoed: stimulant | + | ||||
duur | kwantiteit: koste | ∆ | + | |||
moeg | liggaamlik: begeerte/gevoel | ∆ + | + | + | + | |
mislik/siek | liggaamlik: aandoening | + | ||||
siek | liggaamlik: aandoening | + | + | + | ||
sterk | liggaamlik: gestel | ∆ | ○ | |||
fris | liggaamlik: voorkoms | ◊ | ||||
lelik | liggaamlik: voorkoms | + | ||||
maer | liggaamlik: voorkoms | + | ||||
taai | materieel: samestelling | + | ||||
koel | materieel: temperatuur | + | ||||
koud | materieel: temperatuur | ∆ + | + | |||
warm | materieel: temperatuur | + | ||||
snoesig | materieel: toestand | ∆ | ○ | |||
vars | perseptueel: smaak | ∆ | ||||
arm | sosiaal: sosiale vlak | + | ||||
ryk | sosiaal: sosiale vlak | ∆ | ||||
ou | tydverwant: ouderdom | + | ||||
moeilik | verhouding: moeilikheidsgraad | + |
Uit Tabel 2 blyk gemoedstemming, gedrag en geestelike aspek die algemeenste semantiese kategorieë te wees van die adjektiewe wat met diernaamprefiksoïede verbind. Dit is opvallend dat moeg in al die Germaanse tale in die tabel met hond÷ verbind om ’n intensiewe betekenis aan te dui. In Nederlands en Duits word ook ander diername as hond÷ gebruik. In Duits is dit hoofsaaklik sau÷ en in Nederlands is dit ap÷e· en ber÷e·. Die aanvanklike skema vir hierdie tipe konstruksies in Afrikaans kan dus verfyn word na die skema in (16):
(16) | [[a÷]n [b]adj]adj ⇔ [baie semadj], | |
waar [a]n = hond÷/perd÷, | ||
waar [b]adj = hoofsaaklik adjektiewe wat na gedrag, gemoedstemming of geestelike aspekte verwys. |
Hundsnurscher en Splett (1982) se kategorieë sou in toekomstige diachroniese studies oor diernaamintensiveerders gebruik kon word.
2.4 Opmerking
In Engels word die eerste gebruik van dog-tired (“hond÷moeg” ‘baie moeg’) waarin dog dieselfde intensiverende betekenis as hond÷ in Afrikaans het, deur die aanlyn Merriam-Webster (s.j.) as 1770 aangedui.7 Ander intensiewe vorme in Engels met dog÷ is nie in dié woordeboek gelys nie. Om te sien of dog in Engels soos hond÷ in Afrikaans gebruik word, is ’n korpussoektog deur middel van Google Ngram Viewer8 uitgevoer. Die adjektiewe wat gekies is en in Figuur 2 grafies voorgestel word, is tired, ugly en sick. Hierdie drie vertaalekwivalente is gekies omdat hulle van die mees frekwente Afrikaanse kombinasies met hond÷ is, soos in Tabel 1 gesien kan word. Van die drie konstruksies is dog-tired die sterkste gevestig, terwyl dog-sick en dog-ugly sporadies voorkom, maar, anders as dog-tired, nie in Merriam-Webster opgeteken is nie.9 Engels is volgens Hendrikx, Van Goethem, Meunier en Hiligsmann (2017:402) meer tot sintaktiese intensivering (oftewel analytical modification) geneig en beskik oor ’n vergelyking wat dieselfde betekenis as hond÷siek-tipe konstruksies het: as sick as a dog.
Figuur 2. Die gebruik van dog÷ ‘hond÷’ in Engels in Google Books Ngram Viewer (Michel e.a. 2011)
Klik hier vir ’n groter weergawe van die figuur.
Volgens Efthymiou (2017) word scilo÷ (‘hond÷’) ook in Grieks gebruik om te intensiveer. Enkele voorbeelde waarna sy verwys, is scilo÷varjéme (“hond÷vervelig” ‘baie vervelig’), Gr. scilo÷pináo (“hond÷kwaad” ‘baie kwaad’) en Gr. scilo÷vrízo (“hond÷aanstoot.gee” ‘ernstig aanstoot gee’). Benewens Efthymiou kon geen verdere bronne opgespoor word waarin hierdie tipe konstruksies in Grieks in meer besonderhede bespreek word nie. Ander gevalle waar hond÷ met ’n werkwoord verbind, soos in die Griekse scilo÷vrízo, kon nie in enige ander taal gevind word nie.
Die moontlikheid bestaan dat Afrikaans hond÷-konstruksies uit 16de- en 17de-eeuse Duits geërf het. Oebel (2011) meen dat Duitse komplekse waarin hund÷dieselfde betekenis het as wat hond÷ tans in Afrikaans het, tussen die 16de en 17de eeu in Duits gevorm en gebruik is. Voorbeelde van (versteende) hund÷-konstruksies in Duits wat hy noem, is hund÷e·schlecht (“hond÷sleg” ‘baie sleg’) en hund÷s·miserabel (“hond÷ellendig” ‘uiters ellendig’). In moderne Duits lyk dit of sau÷ ‘sog÷’ hierdie intensiverende funksie oorgeneem het. Voorts is dit opmerklik dat die Dudenwoordeboek hund÷e·, met die valensiemorfeem, as Duitse prefiks identifiseer. In sau÷ se geval word dit as prefiks aangedui,10 maar ook as voorbeeld van ’n prefiksoïed.11
3. Konstruksies met ’n taboeprefiksoïed (K1) en ’n adjektief (K2): die tipe kak÷snaaks
Konstruksies waarin taboes as eerste komponent en ’n adjektief as tweede komponent voorkom, byvoorbeeld fok÷dom in (17) en kont÷lank in (18), word in hierdie afdeling bespreek. Hierdie konstruksies, wat onderskeidelik as ‘baie dom’ en ‘baie lank’ geparafraseer kan word, stem in vorm en betekenis met gewone intensiewe vorme soos ys+koud (‘baie koud’) in (19) ooreen.
(17) | Thx Wat van ‘Vendetta’? met kaptein Mike Torello, badass Ray Luka en fokdom Paulie. Ek, my pa en my broer het dit elke Vrydagaand slaafs gekyk en dit was ons bonding time. |
(18) | Golden circle se ry was kontlank gewees om in te kom maar was die moeite werd. |
(19) | Ek word yskoud en my hart klop wild in my binneste soos ek hierdie artikel lees. |
(VivA-KPE)
Taboes is ’n onderwerp wat gereeld in taalkundestudies oor intensivering aandag geniet. Napoli en Hoeksema (2008:351) verwys na taboes as “syntactic silly putty” om hulle veelsydigheid te beskryf. Studies waarin taboes as sintaktiese intensiveerders of morfologiese komponente beskryf of ondersoek word, sluit Nübling en Vogel (2004), Kehayov (2009) en Ruette (2018) in. Daar bestaan egter steeds ’n leemte met betrekking tot die beskrywing van taboes as intensiverende prefiksoïede. Die bespreking wat volg, het ten doel om die leemte met betrekking tot die morfologiese bestudering van taboes as intensiverende prefiksoïede in Afrikaans te vul.
3.1 Vorm
Die vorm van kak÷snaaks-konstruksies kan skematies soos die skema in (20) voorgestel word. Konstruksies met taboes as intensiverende komponente is nou verwant aan intensiverende konstruksies waar die eerste komponent nie ’n taboe is nie, soos die skemas in (21) en (22).
(20) | [[a÷]n [b]adj]adj ⇔ [baie semadj], | |
waar [a]n = taboewoord onverwant aan semadj | ||
≈ | ||
(21) | [[a÷]n [b]adj]adj ⇔ [baie semadj], | |
waar [a]n = hond÷ | ||
waar [b]adj = hoofsaaklik adjektiewe wat na gedrag, gemoedstemming of geestelike aspekte verwys | ||
≈ | ||
(22) | [[a+]n [b]adj]adj ⇔ [so semadj soos semn], | |
waar [a]n = diernaam wat semadj as kenmerkende eienskap het. |
Bykomende voorbeelde van waar die taboes as prefiksoïede optree, is doos÷dronk, kak÷besig en poes÷duur in (23)–(25). As ’n mens die struktuur van konstruksies soos doos÷dronk verder oorweeg, sien mens hulle bestaan uit twee komponente: ’n taboewoord wat as intensiveerder sonder ’n vergelykingsbasis optree, en ’n adjektief. Taboes kan as adjektiewe of adverbia, soos kak in (26) en (27), los van die adjektief geskryf word, of as prefiksoïede, soos die voorbeeld in (24), vas aan die adjektief geskryf word. In (26) word kak drie keer as ’n adjektief saam met ’n naamwoord gebruik – een keer in kak sponsors en twee keer in kak sepie, om na befondsers en ’n sepie te verwys wat volgens die skrywer nie goed is nie. Taboes word ook as naamwoorde in Afrikaans gebruik, soos kak in (28), en verwys gewoonlik na iets onbenulligs of iets wat die spreker afkeur. Daarteenoor word poes÷ in poes÷klap in (29) vas aan die naamwoord geskryf om na ’n harde klap te verwys, nie na ’n klap wat sleg of afkeurenswaardig is nie. ’n Voorbeeld van ’n N+N-kompositum waarin ’n taboe die eerste stam is, is kak+papier in (30). Vervolgens word daar slegs op konstruksies soos kak÷besig gefokus, waar taboes as prefiksoïede gebruik word, nie op konstruksies soos kak sepie, kak baie en kak+water waar taboes as adjektiewe, adverbia of komponente van samestellings gebruik word nie.
(23) | As ek moet kies tussen doosdronk word en soos ’n doos oor spelling aangaan, dan wen doosdronk word elke keer hands down. |
(24) | Tit-bits: Haar ouers was kakbesig onder die lakens – sy is die jongste van agt kinders. |
(25) | Jou troue was heel moontlik poesduur en (in jou oë) fokken glamourous en “die partytjie van die jaar” gewees. |
(26) | Egoli is nie South African Heritage waaroor ons almal moet huilerig raak nie, dis ’n kak sepie wat opgeindig het as ’n kak sepie wat net gefloat het omdat hulle sell-outs geraak het vir al die local kaksponsors. |
(27) | Ons is bly jy het kak baie geld uit ons uit gemaak. |
(28) | Nadat my hele lunch totally opgefok was en ek ’n ekstra 40 minute op kak spandeer het, het ek eventually by die werk uitgekom net sodat die krag uitfok en nog so paar PC’s en servers ombliksem. |
(29) | Enige iemand wat Rottweilwers en Husky’s toelaat om te teel moet in my mening nader staan vir een standaard poesklap. |
(30) | “Ek is allergies vir neute of andersins dalk vir single-ply kakpapier.” |
(VivA-KPE)
Figuur 3. Verwantskap tussen konstruksies met kak+ en kak÷
In Figuur 3 word die drie basiese betekenisse van kak – “uitskeiding”, “onaangenaam” en “baie” – aangedui. ’n Uitbreiding van kak as uitskeiding is kak+papier, wat deur middel van stippelpyle met kak+sleg as uitbreiding verbind word. Die stippelpyl tussen kak÷snaaks en kak÷baie dui op laasgenoemde wat ’n verlenging van eersgenoemde is: Die betekenis van kak÷ het begin grammatikaliseer en uitgebrei na adjektiewe wat nie met die lekseem verband hou nie. Die soliede pyl tussen kak÷baie en kak baie dui op die verlengingsverhouding waar kak as intensiverende adverbium begin gebruik is, wat gelei het tot baie wat ’n betekenisonderskeid vir kak÷ begin word het. Laastens dui die donkerder omlyning die prefiksoïedkonstruksies aan wat algemeen voorkom.
3.2 Betekenis
Die betekenis van taboewoorde wanneer hulle deel van ’n intensiewe vorm is, word beïnvloed deur die grammatikale intensiveringsfunksie waartoe hulle bydra. Die betekenis van die taboes in konstruksies soos kak÷snaaks is nie verwant aan die leksikale betekenis van die onafhanklike lekseme nie, maar daar is wel ’n skakeling met hulle negatiewe betekeniswaarde. Hierdie tipe konstruksies kan geparafraseer word as ‘baie X’ waar X die adjektief is, maar dit gaan met die nadruk van die eerste komponent se negatiewe betekeniswaarde gepaard. As gevolg van die taboewoord wat as intensiverende komponent gebruik word, is die konstruksie kak÷warm ongetwyfeld meer gelaai as ander konstruksies wat ‘baie warm’ beteken, soos vuur+warm of hond÷warm. Taboeprefiksoïede soos kak÷ beklee dus ’n spesiale posisie in Afrikaans, aangesien:
- taboes se konnotatiewe waarde of emotiewe betekenismomente hulle uiters geskik maak om evaluering aan te dui;
- taboes as adjektiewe, werkwoorde, tussenwerpsels, adverbia, naamwoorde én prefiksoïede optree en in alle gevalle tot ’n evaluerende betekenis bydra.
Die eienskap van taboeprefiksoïede, soos pis÷ en kak÷, om ’n intensiverende betekenis bykomend tot hulle taboewaarde te hê, is belangrik, en in hierdie verband is Combrink (1990:90) se onderskeid tussen ’n “emosionele betekenismoment” en ’n “gevoelswaarde” sprekend. Die vernaamste verskil tussen ’n woord/woorddeel met ’n emosionele betekenismoment en een met ’n bepaalde gevoelswaarde, is dat daar by ’n emosionele betekenismoment sprake van ’n gevestigde emotiewe aspek van die woord se betekenis is. ’n Woord met ’n spesifieke gevoelswaarde verteenwoordig volgens Combrink ’n “uniek-persoonlike emosiebelaaide assosiasie” tussen ’n individu en die spesifieke woord. Combrink noem vloekwoorde as ’n voorbeeld van woorde met emotiewe betekenismomente, en beledigings as konstruksies met gevoelswaarde. Hy bespreek nie hierdie konsepte in meer besonderhede nie, en daar is sedertdien ook nie iets daaroor in of vir Afrikaans gepubliseer nie.
Die onderskeid wat Combrink tref, is egter nie so eenvoudig nie. Emosionele betekenismomente en gevoelswaarde is nie noodwendig onverwant nie, soos taboeprefiksoïede in Afrikaans bewys. Neem byvoorbeeld die konstruksies in (31)–(36) waarin snaaks met verskillende taboes geïntensiveer word. As gevolg van die gebruik van taboes is daar ’n emosionele betekenismoment in elkeen van die konstruksies. In hierdie verband kan daar ook van denotatiewe teenoor konnotatiewe betekenisonderskeidings (Bosman en Pienaar 2017:307–8) melding gemaak word: Daar is nie ’n manier om denotatief (met betrekking tot die vasstelbare werklikheid) tussen die konstruksies in (31)–(36) te onderskei nie, aangesien elkeen se denotatiewe betekenis ‘baie snaaks’ is. Die konnotatiewe of assosiatiewe waarde van die konstruksies verskil moontlik. Of die vorm met poes÷ ’n bykomende (negatiewe) gevoelswaarde het wanneer dit met die vorme met hel÷ of moer÷ vergelyk word, is ’n ope vraag en sal van gebruiker tot gebruiker verskil. Dit is dus moontlik dat emosionele betekenismomente deur ’n taboeprefiksoïed se gevoelswaarde beïnvloed kan word. Dit val buite die fokus van hierdie artikel om die gevoelswaarde van spesifieke taboes in meer besonderhede te bepaal, aangesien dit ’n omvattende sosio- en/of psigolinguistiese studie behoort te wees.
(31) | Nie lekker as jy jar is nie maar foksnaaks as jy senior is later. |
(32) | Julee dink miskien dit is helsnaaks as ’n Aprilgek-grap maar as daai grap se hoenders huistoe kom lag almal van ons lankal nie meer daaroor nie. |
(33) | Vir my is dit kaksnaaks hoe ons land se serial racists elke keer kop uitsteek as die woord transformasie uit die mond van ons Minister van Sport kom. |
(34) | Hierdie girl is goed, en moersnaaks op Twitter. |
(35) | Ek’s mal oor die trolls en dan te kyk hoe allie mielieboere hulle self benat. Dis pissnaaks. |
(36) | Die 21 sekondes wat ek kon sien van die tweede clip was poessnaaks. |
(VivA-KPE)
In studies waar die intensiverende funksie van taboes ondersoek word, is dit algemeen om die taboes in kategorieë te verdeel. Een van die tabelle wat Leuschner (2010) vir Duitse, Nederlandse en Sweedse prefiksoïede maak, sluit spesifiek taboeprefiksoïede as ’n aparte kategorie in. Nübling en Vogel (2004) het in hulle studie vier kategorieë taboes in Nederlands, Duits en Sweeds onderskei en ondersoek, naamlik skatologie, religie, seks en siektes. Die gebruik van hierdie kategorieë in die onderskeie tale word in Nübling en Vogel (2004:20) deur middel van plustekens aangedui: ’n Maksimum van drie plustekens dui op die hoë voorkoms van ’n kategorie in ’n spesifieke taal. Uit hulle opsommende tabel blyk seks die algemeenste kategorie vir Nederlandse taboes, skatologie vir Duitse taboes en religie vir Sweedse taboes te wees. Dit is slegs in Nederlands waar siektes as ’n taboekategorie voorkom. ’n Omvattender studie waarin aandag aan taboes in verskillende tale geskenk word, is Ljung (2011). Ljung (2011:35) identifiseer dieselfde taboekategorieë (hy verwys na “temas”) as Nübling en Vogel (2004), maar voeg ’n vyfde kategorie by, naamlik ma (familie). Volgens Ljung (2011:39) word seksuele taboes nie in die meeste Germaanse tale (hy noem spesifiek Duits en Sweeds) gebruik om te intensiveer nie, maar eerder religieuse of skatologiese taboes. Afrikaans word nie in Leuschner (2010), Nübling en Vogel (2004) of Ljung (2011) of enige ander taaltaboestudies ingesluit nie. Studies oor taboegebruik in Afrikaans is taalspesifiek en hoofsaaklik beperk tot ouer bronne soos Calitz (1979), Dekker (1991), Feinauer (1981) en in ’n mindere mate Van der Merwe (1996) en Van Huyssteen (2021).
Nübling en Vogel (2004) se vier kategorieë, asook Ljung (2011) se familiekategorie, word in Tabel 3 gebruik om taboeprefiksoïede te kategoriseer. In die eerste kolom van Tabel 3 word die vertaalde Afrikaanse taboeprefiksoïed gelys, aangevul met die taboeprefiksoïede wat met behulp van die korpusdata in VivA se korpusversamelings geïdentifiseer is. In die tweede kolom is die taboekategorie en in die derde kolom die taal (hetsy Afrikaans, Engels, Fries, Nederlands of Duits) waarin die taboe as ’n intensiverende prefiksoïed optree. Die taboekategorieë wat algemeen in Afrikaans, Nederlands, Duits en Engels voorkom, is seks en skatologie.
Soos deur die literatuur bevestig word, word siektes slegs in Nederlands gebruik om te intensiveer. Die intensivering deur middel van siektes gaan in Nederlands ook eerder met ’n naamwoord as ’n adjektief gepaard, maar dié taboe word vir doeleindes van volledigheid in Tabel 3 ingesluit. Ruette (2018:226) se aanvanklike hipotese is dat Nederland se Calvinistiese geskiedenis ’n invloed op die gebruik en verspreiding van siektes as intensiveerders gehad het. Sy gevolgtrekking is uiteindelik dat ’n aantal sosio-ekonomiese faktore (waaronder verstedeliking) ’n waarskynliker verklaring vir die verskynsel bied. In Allan en Burridge (2006:219–221) se hoofstuk oor die taboewaarde van siektes en dood is daar ’n onderafdeling oor die gebruik van kanker as taboe.
Tabel 3. Kategorisering van taboeprefiksoïede in Wes-Germaanse tale
Afrikaanse of vertaalde taboeprefiksoïed | Taboekategorie | Taal12 |
dood÷ | siekte | Afr. D. F. Eng. Ndl. |
doos÷ | seks | Afr. |
fok÷ | seks | Afr. Eng. Ndl. |
god÷ | religie | Afr. D. Ndl. |
hel÷ | religie | Afr. |
kak÷ | skatologie | Afr. D. Eng. Ndl. |
kanker÷ | siekte | Ndl. |
kolera÷ | siekte | Ndl. |
kont÷ | seks | Afr. |
kots÷ | skatologie | Afr. Ndl. |
moer÷ | familie (ma) | Afr. |
moord÷ | siekte | D. |
pis÷ | skatologie | Afr. |
poes÷ | seks | Afr. |
skyt÷ | skatologie | Afr. |
slet÷ | seks | Afr. |
tering÷13 | siekte | Afr. Ndl. |
testikel÷ | seks | Ndl. |
tifus÷ | siekte | Ndl. |
tos÷ | seks | Afr. |
vrek÷ | siekte14 | Afr. |
Soos wat kak÷ in Afrikaans ’n algemene taboeprefiksoïed is, word scheiß÷ in Duits en poep÷ of schijt÷ in Nederlands gebruik om ’n verskeidenheid adjektiewe mee te intensiveer. Voorbeelde van Duitse konstruksies met scheiß÷ sluit scheiß÷gut (“kak÷goed” ‘baie goed’), scheiß÷kalt (“kak÷koud” ‘baie koud’) en scheiß÷faul (“kak÷lui” ‘baie lui’) in. Volgens die Dudenwoordeboek word scheiß· in sulke gevalle as ’n prefiks geklassifiseer.15 Nederlandse voorbeelde sluit poep÷duur (“poep÷duur” ‘baie duur’) en schijt÷moe (“skyt÷moeg” ‘baie moeg’) in. Volgens Ljung (2011:157) is Engels nie geneig om deur middel van skatologiese taboes te intensiveer nie; die enigste voorbeelde wat hy noem, is pisspoor (“pis÷slegte” ‘baie sleg’) en shitsure (“kak÷seker” ‘baie seker’). Skatologiese intensiveerders blyk dus ’n algemene verskynsel in verskeie Germaanse tale te wees.
’n Taboeprefiksoïed wat totaal verbleik is en gegrammatikaliseer het tot ’n punt waar die taboestatus nie meer bestaan nie, is dood÷. Volgens Hoeksema (2012) is dood+siek reeds in 1330 as ’n voorbeeld van ’n oorsaakkompositum (‘so siek dat die persoon doodgaan’) aangeteken. Hy meen dat die produktiewe gebruik van dood÷ in die betekenis van ‘baie’ veral van 1750 tot 1930 in Nederlands teenwoordig was; die vorme wat vandag nog gebruik word, het waarskynlik in daardie periode ontstaan. In Afrikaans is dood÷ ’n uiters algemene intensiveerder en verbind dit met uiteenlopende adjektiewe, soos gesien kan word in voorbeelde soos dood÷gelukkig, dood÷slim en dood÷tevrede in (37)–(39). Blanco-Suárez (2020) het in ’n onlangse studie ondersoek oor die intensiverende bywoord mortal in Engels gedoen wat daarop dui dat dood ook algemeen in Engels as (sintaktiese) intensiveerder gebruik word.
(37) | Die eienaar, ’n jong Noorweër, verseker ons egter dat hy doodgelukkig daar woon en volkome tevrede met sy lot is. |
(38) | Ná hy kroeg toe verdwyn het, leun Heleen nader. “Dis mos daardie doodslim ou van die ingenieursfakulteit? Die een waarvan jy altyd praat?” |
(39) | “En seker Hanno se grootste verlies. Hy is ’n regte smulpaap en Denise verpes ’n kokery. Pla dit hom ooit? Of is hy doodtevrede met die wegneemhoender wat altyd sy groot versoeking was?” |
(VivA-KPO)
3.3 Gebruik
Wanneer ’n mens die gebruik van taboeprefiksoïede in VivA se korpusversamelings oorweeg, staan die informele gebruik daarvan sentraal. Taboeprefiksoïede behoort vas aan die adjektief geskryf te word, maar verwarring bestaan, waarskynlik omdat die taboes ook adverbiaal kan optree om ’n adjektief te intensiveer (soos baie en bitter in Afrikaans). Ter illustrasie kan die gevalle kak snaaks, pis snaaks en poes snaaks – as twee woorde geskryf, teenoor kak÷snaaks, pis÷snaaks en poes÷snaaks wat vas geskryf is – geneem word. In die korpusversamelings kom pis snaaks en poes snaaks meer as die vasgeskryfde vorm voor: een trefslag van pis÷snaaks teenoor pis snaaks se vyf, terwyl poes÷snaaks met 33 trefslae basies ’n derde van poes snaaks se 96 trefslae is. Daarteenoor is daar nie ’n voorkeurvorm tussen kak snaaks en kak÷snaaks nie; albei het 88 trefslae. Daar is dus nie ’n vaste patroon met betrekking tot los en vas skryf van hierdie konstruksies nie, en die situasie verskil wanneer verskillende taboes met mekaar vergelyk word. Vir doeleindes van hierdie afdeling word slegs gevalle in die N-tabelle ingesluit waar die taboes vas aan die adjektiewe geskryf word, soos in Trollip (2022:7–24) verduidelik.
Tabel 4 is ’n opsomming van die data wat in hierdie afdelings bespreek word, en is in vyf kolomme verdeel: Die eerste kolom bevat die taboeprefiksoïed, die tweede kolom die getal unieke intensiverende konstruksies met die spesifieke taboe; die derde kolom lys enkele voorbeelde, die vierde kolom dui die aantal hapaxe aan, en die vyfde kolom toon die taboeprefiksoïed se woordfrekwensietabel. Die tabel is georden volgens die totale getal konstruksies met die relevante prefiksoïede; dood÷ is dus eerste, en fok÷ en tos÷ laaste.
Tabel 4. Opsomming van taboeprefiksoïedkonstruksies in VivA se korpusversamelings
Taboe-prefiksoïed | Getal konstruksies | Voorbeelde | Getal hapaxe | Tabel |
dood÷ | VivA-KPO: 134 VivA-KPE: 33 |
dood÷moeg; dood÷stil | VivA-KPO: 50 VivA-KPE: 8 |
Tabel 5 |
poes÷ | VivA-KPO: 38 VivA-KPE: 75 |
poes÷goed; poes÷klein | VivA-KPO: 15 VivA-KPE: 9 |
Tabel 6 |
kak÷ | VivA-KPO: 24 VivA-KPE: 64 |
kak÷lank; kak÷maklik | VivA-KPO: 13 VivA-KPE: 27 |
Tabel 7 |
vrek÷ | VivA-KPO: 40 VivA-KPE: 22 |
vrek÷baie; vrek÷koud | VivA-KPO: 21 VivA-KPE: 17 |
Tabel 8 |
moer÷ | VivA-KPO: 16 VivA-KPE: 11 |
moer÷dronk; moer÷mal | VivA-KPO: 13 VivA-KPE: 9 |
Tabel 9 |
doos÷ | VivA-KPO: 6 VivA-KPE: 16 |
doos÷kwaad; doos÷snaaks | VivA-KPO: 4 VivA-KPE: 11 |
Tabel 10 |
pis÷ | VivA-KPO: 10 VivA-KPE: 5 |
pis÷bang; pis÷cool | VivA-KPO: 5 VivA-KPE: 2 |
Tabel 11 |
hel÷ | VivA-KPO: 10 VivA-KPE: 2 |
hel÷dom; hel÷dors | VivA-KPO: 8 VivA-KPE: 2 |
Tabel 12 |
god÷ | VivA-KPO: 4 VivA-KPE: 3 |
god÷s·moontlik; god÷s·onmoontlik; god÷verlate | VivA-KPO: 1 VivA-KPE: 0 |
NVT |
kots÷ | VivA-KPO: 4 VivA-KPE: 3 |
kots÷geel; kots÷mislik | VivA-KPO: 2 VivA-KPE: 0 |
NVT |
kont÷ | VivA-KPO: 0 VivA-KPE: 3 |
kont÷befok; kont÷lank; kont÷lelik | VivA-KPO: 0 VivA-KPE: 3 |
NVT |
fok÷ | VivA-KPO: 0 VivA-KPE: 0 |
fok÷dronk; fok÷lelik | VivA-KPO: 0 VivA-KPE: 3 |
NVT |
tos÷ | VivA-KPO: 0 VivA-KPE: 1 |
tos÷cool; tos÷lelik | VivA-KPO: 0 VivA-KPE: 1 |
NVT |
Die woordfrekwensietabelle 5 tot 12 (vervat in die bylaag) is die individuele tabelle vir die konstruksies volgens die spesifieke taboeprefiksoïed. Die tabelle, asook die meegaande besprekings, is in dieselfde volgorde as in die opsomming in Tabel 4. Daar is nie tabelle vir god÷, kots÷, kont÷, fok÷ en tos÷ nie, aangesien hulle gebruik volgens die data nog gering in Afrikaans is. Hierdie vyf taboes word aan die einde van hierdie afdeling gesamentlik bespreek.
3.3.1 dood÷
Die gegrammatikaliseerde status van dood÷ blyk uit die getal konstruksies met ’n N-waarde gelyk aan of kleiner as 14. Van die 134 konstruksies in VivA-KPO is 50 hapaxe en is die vier konstruksies waarvan die N-waarde 14 of kleiner is, verantwoordelik vir net meer as 68% van die totale trefslae in VivA-KPO. Die spreiding in VivA-KPE lyk anders: Van die totale 33 konstruksies is 8 hapaxe en die konstruksies met ’n N-waarde gelyk aan of minder as 14 verteenwoordig byna 91% van die totale trefslae. Dit blyk dus dat Afrikaanssprekendes veral van die gevestigde dood÷-konstruksies gebruik maak, maar dat dood÷ ook gemaklik na nuwe adjektiewe uitbrei. Voorbeelde van algemeen gevestigde dood÷-konstruksies is dood÷stil en dood÷eenvoudig in (40) en (41), terwyl dood÷gretig en dood÷ordentlike in (42) en (43) hapaxe is.
(40) | Nou was dit doodstil in die kamp, maar tot almal se verwondering was die gevangene die volgende dag weer terug. |
(41) | Dit is dus moeilik om te onderskei tussen moedswillig of net doodeenvoudig nie weet van beter. |
(42) | Maar gisteraand is hy skielik soos ’n verliefde jongetjie, doodgretig om jou te ontmoet. |
(43) | Jy het jouself teen ’n muur vasgeloop met ’n doodordentlike versoek. |
(VivA-KPO/VivA-KPE)
Die P-waarde in VivA-KPO word tot so ’n mate deur die mees frekwente konstruksies skeefgetrek dat dood÷ se P=0,004, ondanks die 50 hapaxe. Met byna 40% van konstruksies wat hapaxe is, is dood÷ egter ooglopend produktief in Afrikaans, al sou ’n mens slegs met inagneming van die P-waarde die teenoorgestelde kon aflei. In VivA-KPE is P=0,005, wat byna identies aan VivA-KPO is, aangesien die helfte van die konstruksies hapaxe is en die frekwensies ook sterk deur enkele konstruksies se frekwensie beïnvloed word.
Ten slotte, wanneer dood÷ as die eerste komponent in konstruksies voorkom, kan dit geskryf word as dood÷ sonder ’n valensiemorfeem, soos in dood÷seker, dod+e· soos in die geval van dod+e·verering en dood+s· soos in die geval van dood+s·engel. Die opsie sonder die valensiemorfeem kom oor die algemeen in die geval van intensiewe vorme voor, soos blyk uit dood÷eenvoudig, dood÷gelukkig en dood÷normaal (vergelyk afdeling 2.1 se bespreking oor die gebruik van die valensiemorfeem in Afrikaans en Nederlands). Dit is spesifiek dood÷ en dood÷s· wat relevant is, aangesien variasie in die data blyk voor te kom wanneer dood÷ as intensiverende prefiksoïed saam met adjektiewe gebruik word. Een konstruksie waarin hierdie variasie voorkom, is dood÷luiters en dood÷s·luiters soos in (44) en (45). Die vorm met die valensiemorfeem kom egter in die minderheid van die gevalle voor en blyk dus ’n versteende intensiewe vorm of die produk van hiperkorreksie te wees.
(44) | Op ’n stadium moes ek keer of sy het ’n taxi met ’n hardgekookte eier gegooi toe dié doodluiters in die geel baan by ons verbyskuif en voor ons indruk. |
(45) | Sy het maar doodsluiters voortgegaan met die voorspelling. |
(VivA-KPO)
3.3.2 poes÷ en kak÷
Die gemeenskaplikhede rakende die gebruik van poes÷ en kak÷ blyk duidelik uit hulle hoë voorkoms, asook uit die verskeidenheid adjektiewe waarmee hulle verbind. Die konstruksies met poes÷ word in Tabel 6 opgesom, terwyl die kak÷-konstruksies in Tabel 7 verskyn. In VivA-KPO is daar ’n totaal van 38 konstruksies met poes÷, waarvan 15 hapaxe is. Vir poes÷-konstruksies in VivA-KPO is P=0,09,16 terwyl die produktiwiteit in VivA-KPE laer is (P=0,01). Van die 75 konstruksies in VivA-KPE is slegs 10 hapaxe. Die twee konstruksies met ’n N-waarde laer as 14 – wat dui op baie hoë voorkoms van enige konstruksie – is poes÷baie en poes÷groot. In VivA-KPE is daar meer as ses keer meer konstruksies wat nie hapaxe is nie as konstruksies wat wel hapaxe is. Dit blyk dus dat poes÷ as ’n intensiverende prefiksoïed ’n hoë mate van vestiging in Afrikaans geniet.
Daar kom enkele konstruksies met poes÷ in die korpusversamelings voor wat nie as geïntensiveerde adjektiewe geklassifiseer kan word nie. Hierdie konstruksies word nie in Tabel 6 ingesluit nie, maar behoort vermeld te word. Een geval is poestoe in (46) en (47): In (46) kan poestoe as ‘baie’ geparafraseer word, terwyl die konstruksie in (47) as ‘gebreek’ geparafraseer kan word. Nie een van die konstruksies se betekenis is ‘baie toe’ nie. Al is hulle evaluerende konstruksies weens die gebruik van poes÷, is hulle nie in kleiner betekenisvolle dele analiseerbaar nie. Die ander konstruksie is die hapax poes÷klomp in (48) waar poes÷ met ’n naamwoord verbind en wat slegs as ‘’n groot klomp’ geparafraseer kan word. Die ander naamwoordkonstruksie waarmee poes÷ verbind, en al in Afrikaans gevestig is, is poes÷klap in (49). Hierdie konstruksie sou as ‘groot klap’ geparafraseer kon word, met die bykomende evaluerende betekenis wat alle konstruksies met poes÷ insluit.
(46) | Fokken awesume website mensies ons almal waardeer dit stormers is n poestoe kak span jul moet net jul website bietjie update met nuwe goed omtrent elke dag |
(47) | Die wasmasjien is ook poestoe na een aand se fight toe Joe die spindrom in sy moer geskop het met haar hardfront Bronx. |
(48) | Kyk, soos ek dit sien: a: Dit gaan ’n poesklomp geld kos om die halfgeboude kragsentrale af te breek. |
(49) | Normaalweg as iemand jou dit tune, draai jou kop 15 grade links en duck, want ’n poesklap is oppad (en ons praat nie van katte nie). |
(VivA-KPE)
Die konstruksies met ÷kak word in Tabel 7 opgesom. Soortgelyk aan poes÷, is daar heelwat minder konstruksies in VivA-KPO as in VivA-KPE – 13 van die 24 konstruksies in VivA-KPO is hapaxe, en van die 64 konstruksies in VivA-KPE is 27 hapaxe. Die drie konstruksies in VivA-KPO met N=21, die laagste N-waarde, is kak÷sleg, kak÷gevaarlik en kak÷snaaks. Daarteenoor staan kak÷baie in VivA-KPE met N=13 wat op ’n besonder hoë voorkoms dui. Met meer as die helfte van die konstruksies in VivA-KPO wat hapaxe is, is P=0,21 en in VivA-KPE is P=0,05. Die konstruksie is beslis produktief in Afrikaans, soos blyk uit die voorkoms van hapaxe soos kak÷mooi, kak÷skuldig en kak÷spyt.
Die gebruik van ·er in die hapax kakk÷er·snaaks is in Tabel 7 ingesluit en is opvallend aangesien dit op fleksie binne-in die konstruksie wys. Die gebruik in (50) dui daarop dat die spreker die konstruksie meer evaluerend wou laai, en dit deur byvoeging van die vergrotende trap van die algemener kak÷snaaks wou onderskei. Die moontlike trappe van vergelyking sal egter ??kak÷snaaks·er en ??kak÷snaaks·ste moes wees, as aanvaar word dat fleksie slegs ná afleiding kan plaasvind. Ander soortgelyke gevalle is nie in die data gevind nie.
(50) | Kakkersnaaks as kaksnaaks! Lekker lewendige songs, net jammer hul kom van die WP af! |
(VivA-KPE)
Daar is enkele konstruksies in die data waar kak÷ saam met naamwoorde voorkom; ’n algemene een is kak÷spul in (51) in VivA-KPO met N=15. Hierdie konstruksie sou minder evaluerend geformuleer kon word as ‘onaangename situasie’ of ‘ongemaklike situasie’. Die ander konstruksies is kak÷hou in (52) wat ’n hapax in VivA-KPO is en as ‘groot hou’ geparafraseer kan word, en kak÷spoed in (53) wat ses keer in VivA-KPE voorkom en as ‘vinnige spoed’ geparafraseer kan word. Drie ander gevalle waar kak÷ met naamwoorde verbind, is met Engelse naamwoorde soos shot en loads. Dit lyk dus of daar ’n ontluikende konstruksie in Afrikaans is waar kak÷ (en tot ’n mindere mate poes÷, soos hier bo genoem) naamwoorde intensiveer. Die skema in (54) dien dus as ’n uitbreiding op die skema in (20).
(51) | Die pleegma dreig toe om vir Sebastian te sê. En Lalie weet dit kan net ’n kakspul afgee. |
(52) | Sy vingers verdwyn in die openinge van ’n bal ... en dan ruk hy dit terug en moker vir Dries ’n kakhou teen die kaak. |
(53) | En BP petroljoggies met gieters wat aangehardloop kom met ’n kakspoed om die vlamme te try blus. |
(VivA-KPO/VivA-KPE)
(54) | [[a÷]n [b]n]n ⇔ [’n groot semn], | |
waar [a]n = kak÷ / poes÷ |
3.3.3 vrek÷
As ’n mens Tabel 8 oorweeg waarin die resultate vir vrek÷ opgesom is, is dit eerstens opvallend dat vrek÷bang die enigste konstruksie is wat een van die algemeenste konstruksies (dit wil sê, konstruksies met N>1) in albei korpusversamelings is. As ’n voorbeeld is vrek÷warm (N=20) een van die algemeenste konstruksies in VivA-KPO, terwyl dit ’n hapax in VivA-KPE is. Dit was ook tot dusver slegs dood÷ wat meer konstruksies in VivA-KPO as in VivA-KPE het; konstruksies met vrek÷ kom ook algemener in VivA-KPO as in VivA-KPE voor. Daar is 40 konstruksies in VivA-KPO en 22 in VivA-KPE.
Met betrekking tot vrek÷ se produktiwiteit, is byna die helfte van die totale konstruksies in VivA-KPO hapaxe, terwyl 17 van die 22 konstruksies in VivA-KPE hapaxe is. As gevolg van die hoë getal hapaxe is P=0,17 in VivA-KPO en P=0,31 in VivA-KPE, wat ’n hoë produktiwiteitswaarde vir konstruksies is en vergelykbaar is met hond÷(P=0,13 in VivA-KPO; P=0,1 in VivA-KPE – kyk afdeling 2.3, waar die produktiwiteit van hond÷ bespreek word). Die gebruik van vrek÷ blyk nie so algemeen soos dood÷ te wees nie. Die rede daarvoor sou moontlik deur die diachroniese bestudering van hierdie twee taboeprefiksoïede nagespeur kon word.
3.3.4 moer÷
Die gebruik van moer÷ as taboeprefiksoïed word in Tabel 9 opgesom. Met die uitsondering van moer÷snaaks, moer÷sterk en moer÷vinnig in VivA-KPO (elkeen met N=23) en moer÷baie en moer÷snaaks in VivA-KPE (met N=17 en N=19 onderskeidelik), is al die konstruksies hapaxe. Dit lei dus tot hoë P-waardes, naamlik P=0,68 in VivA-KPO en P=0,45 in VivA-KPE.17
In moer÷ se geval blyk daar ’n ontluikende tendens met betrekking tot die gebruik van moer÷ as taboeprefiksoïed te wees, naamlik konstruksies waarin moer÷s· gebruik word. Voorbeelde hiervan is moer÷s·trots en moer÷s·-·gelowige in (55) en (56). Hierdie vorme kan moontlik ’n ingekorte vorm van moerse, ’n adverbiale vorm van moer, wees.
(55) | Is hierdie monumentale poes Eddie Murphy se kompetisie en, mits hy Suid-Afrikaans is, is ek moerstrots. Ons het ’n nuwe wereldkampioen. |
(56) | Koos was gelukkig in Huis Kombuis en aan die hoërskool Paul Roos, ondanks ’n katastrofiese, kortstondige verbintenis met ’n “groepie moers-gelowige jongmense” wat elke Saterdag langs die kleidam bokant die sportgronde vir bidure saamgetrek het. |
(VivA-KPE/VivA-KPO)
3.3.5 doos÷
Soos in die geval van moer÷ in Tabel 9, is die gevalle waar doos÷ vas aan adjektiewe geskryf word om hulle te intensiveer, beperk en word die data deur hapaxe oorheers. In VivA-KPO is daar ses konstruksies en vier daarvan is hapaxe, terwyl 11 van die 16 konstruksies in VivA-KPE hapaxe is. Dit is weens die meerderheid konstruksies wat hapaxe is dat P=0,14 in VivA-KPO, en P=0,48 in VivA-KPE; gemeet aan ander konstruksies is dit beslis een van die produktiefste konstruksies. In albei korpusversamelings is doos÷dronk die konstruksie wat die meeste voorkom. Die gebruik van doos÷ in Afrikaans groei dus as ’n mens die hapaxe in ag neem, alhoewel die produktiwiteit nog nie op die vlak van kak÷ en poes÷ is nie.
3.3.6 pis÷
Die data vir pis÷, soos opgesom in Tabel 11, is nog relatief beperk in vergelyking met ander prefiksoïede wat tot dusver bespreek is. Wanneer konstruksies met pis÷ oorweeg word, is die neiging om pis óf los van, óf vas aan die adjektief te skryf, hoewel Tabel 11 slegs dié konstruksies insluit wat vas geskryf is. Die gebruik van pis÷ as taboeprefiksoïed is moontlik nog ongevestig of onbekend aan die meeste gebruikers, vandaar die onsekerheid. Die data is egter te min om op die oomblik meer stelligheid te verskaf, maar dit is wel opvallend dat daar vyf hapaxe in VivA-KPO en net twee in VivA-KPE is. Met die produktiefste konstruksies blyk die hapaxe die data te oorheers, soos gesien kan word met kak÷ en poes÷. Die meeste konstruksies met pis÷ kom in VivA-KPO voor, met vyf van die 10 konstruksies wat hapaxe is. Op grond van die beperkte data blyk pis÷ se produktiwiteit gemiddeld te wees wanneer dit met ander taboewoordprefiksoïede vergelyk word, met P=0,28 in VivA-KPO en P=0,09 in VivA-KPE. Die adjektiewe wat met pis÷ verbind, is meestal negatief, maar het al uitgebrei na positiewe adjektiewe soos lekker, maklik en goed. In VivA-KPO kom pis÷duur en pis÷cool die meeste voor, met N=22, terwyl pis÷maklik en pis÷cool met N=16 die algemeenste konstruksies in VivA-KPE is.
3.3.7 hel÷
Die gebruik van hel÷ word in Tabel 12 opgesom. Daar is slegs enkele konstruksies in die data; agt van die 10 konstruksies in VivA-KPO is hapaxe, en die enigste twee konstruksies wat in VivA-KPE gevind is, is ook hapaxe. Weens die hoë getal hapaxe, asook die betreklik lae frekwensies, is die P-waardes skeefgetrek tot so ’n mate dat P=1 in VivA-KPE. Al is dit duidelik dat hel÷ op ’n verskeidenheid adjektiewe toegepas kan word, is die gebruik daarvan in vergelyking met ander prefiksoïede, soos kak÷ en dood÷, beperk. Die enigste konstruksie met hel÷ wat in albei korpusversamelings voorkom, is hel÷warm, wat deur middel van die metaforiese vergelyking tussen die hel en warmte verklaar kan word. Oorweeg ’n mens hapaxe soos hel÷goed en hel÷vinnig, is dit egter duidelik dat hel÷ in Afrikaans suksesvol tot ’n prefiksoïed ontwikkel het.
3.3.8 Ander
Die gebruik van god÷, fok÷, kots÷, kont÷ en tos÷ as taboeprefiksoïede in Afrikaans is nog nie so algemeen nie. Die gebruik van god÷ is beperk tot enkele gevestigde konstruksies: god÷verlate (met en sonder die ·s·-valensiemorfeem), god÷s·onmoontlik en god÷s·moontlik. ’n Soortgelyke situasie geld vir fok÷, waar slegs fok÷baie, fok÷dom en fok÷snaaks as een woord in VivA-KPE voorkom. Al drie konstruksies is hapaxe, wat op ’n uiters seldsame konstruksie dui. Dit blyk ook op hierdie stadium dat kots÷ die meeste in kots÷mislik (N=22 in VivA-KPO) en kots÷geel (N=17 in VivA-KPE) gebruik word, waar die vergelykende verhouding van die komponente nog geld. Die ander konstruksies met kots÷ is kots·-·oranje, kots·-·vaal en kots·-·groen. Dieselfde beperkte toepassing geld vir kont÷, wat slegs in VivA-KPE in die hapaxe kont÷befok, kont÷lank en kont÷lelik gebruik word. Die gebruik van kont÷ is waarskynlik na analogie van die patroon of skema van poes÷ en doos÷. Die gebruik van tos÷ is tans tot tos÷cool beperk. Op hierdie stadium kan hierdie konstruksies wel as taboeprefiksoïede beskou word, maar die gebruik daarvan is (nog) nie so wydverspreid soos dié van kak÷ en poes÷, of selfs minder algemene taboeprefiksoïede soos pis÷ en doos÷ nie.
3.3.9 Opmerking
Daar is enkele konstruksies waarin ander taboes wat in Tabel 3 gelys is en nog nie bespreek is nie, sporadies in die data waargeneem is. Eerstens verbind skyt÷, wat onder “skatologie” in Tabel 3 ingedeel is, in Afrikaans slegs met bang soos in (57). Dit lyk of die konstruksie volkome geleksikaliseer is, aangesien skyt÷ nie in die korpora met enige ander adjektiewe verbind om ’n intensiewe betekenis aan te dui nie. Dieselfde geld vir tering÷ in (58), wat deel van die siekte-kategorie sal wees, wat slegs met maer verbind. Albei hierdie taboes sou boonop nie as prefiksoïede kwalifiseer nie, aangesien daar nie méér adjektiewe daarmee voorkom nie. Laastens is slet÷snaaks in (59) ’n hapax in VivA-KPE. Die korpussoektogte is tot bogenoemde taboewoorde beperk; die gebruik van ander taboewoorde as intensiveerders kan in toekomstige navorsing ondersoek word.
(57) | Ek dink hy was skytbang vir sy ouers na wat hy met sy suster aangevang het. |
(58) | Walkures bestaan nie, ek het nie ’n teringmaer tante nie, maar die filosofie is nagepraat. |
(59) | die artikel is hoerpoep makmoer sletsnaaks! |
(VivA-KPE)
4. Samevatting
Die gebruiksgebaseerde beskrywing van prefiksoïede in hierdie artikel is verdeel in nietaboeprefiksoïede (afdeling 2) en taboeprefiksoïede (afdeling 3). Die prefiksoïede het in hulle aard as taboes of nietaboes, en by implikasie hulle omvang, verskil: ’n Eienskap wat die twee tipes prefiksoïede deel, is dat hulle ’n intensiverende betekenis tot die finale konstruksie bydra. Die data vir hond÷ het gedui op ’n prefiksoïed wat produktief in Afrikaans is, aangesien hond÷ al na verskillende nieverbandhoudende adjektiewe uitgebrei het. Daar is ook gewys op ander versteende diernaamintensiveerders, soos stapel÷ en perd÷, wat nie soos hond÷ in Afrikaans uitgebrei het nie. Die feit dat Afrikaans moontlik die intensiverende gebruik van hond÷ uit 17de-eeuse Duits ontleen het, sau÷ deesdae in Duits gebruik word om te intensiveer, en ap÷e· en ber÷e· in Nederlands gebruik word om mee te intensiveer, dui op ’n interessante taalvergelykende verskynsel waar diername (lukraak) as intensiveerders ontwikkel. ’n Diachroniese en/of taalvergelykende studie van diernaamprefiksoïede in Afrikaans, Nederlands en Duits bied daarom ’n gulde geleentheid vir toekomstige werk.
Die geval van taboeprefiksoïede in Afrikaans verskil van hond÷ of ander naamwoorde wat prefiksoïede is, aangesien taboes inherent evaluerend is en daar soveel opsies vir taalgebruikers beskikbaar is. Uit die bespreking van die korpusdata vir taboeprefiksoïede in afdeling 3.3 is dit duidelik dat taboes geredelik in Afrikaans vir intensivering gebruik word. Daar is eerstens op die produktiewe gebruik van kak÷ en poes÷, veral in die tipes tekste soos dié in VivA-KPE, gewys. Terwyl fok÷, tos÷ en pis÷ se gebruik as taboeprefiksoïede tans nog tot enkele konstruksies beperk is, is dit ook bespreek. ’n Belangrike ontdekking uit die data is die gebruik van taboeprefiksoïede, hoofsaaklik kak÷, om ook naamwoorde te intensiveer. Hierdie stap in die gebruik van taboeprefiksoïede plaas hulle in ’n klas saam met Germaanse en Klassieke prefikse – onder andere in Trollip (2022:161–208) bespreek – wat met adjektiewe én naamwoorde kan verbind om intensiverende betekenisse te gee. Met meer data sou dit beslis moontlik wees om die ontwikkeling van taboeprefiksoïede om mettertyd adjektiewe én naamwoorde te intensiveer, te beskryf.
Bibliografie
Allan, K. en K. Burridge. 2006. Forbidden words: taboo and the censoring of language. Cambridge: Cambridge University Press.
Baayen, H. en R. Lieber. 1991. Productivity and English derivation: a corpus-based study. Linguistics, 29:801–44.
Balci, Y. 2007. Möglichkeiten der intensivierung von Adjektiven im Deutschen. Selçuk Üniversitesi Sosyal Bilimler Enstitüsü Dergisi. Sayı Sayı, ble. 121–32.
Battefeld, M., T. Leuschner en G. Rawoens. 2018. Evaluative morphology in German, Dutch and Swedish: constructional networks and the loci of change. In Van Goethem, Norde, Coussé en Vanderbauwhede (reds.) 2018.
Bender, E.M., L. Derczynski en P. Isabelle (reds.). 2018. Proceedings of the 27th International Conference on Computational Linguistics. Santa Fe, Nieu-Meksiko, VSA: Association for Computational Linguistics.
Blanco-Suárez, Z. 2020. Mortal hurry and mortal fine: on the rise of intensifying mortal. Studia Neophilologica, 92(3):274–92. https://doi.org/10.1080/00393274.2020.1762243.
Boogaart, R., T. Colleman en G. Rutten (reds.). 2017. Extending the scope of construction grammar. Berlyn, Boston: De Gruyter Mouton.
Booij, G. 2010. Construction morphology. Oxford: Oxford University Press.
Booij, G. en M. Hüning. 2014. Affixoids and constructional idioms. In Boogaart, Colleman en Rutten (reds.) 2017.
Bosman, N. en M. Pienaar. 2017. Afrikaanse semantiek. In Carstens en Bosman (reds.) 2017.
Calitz, F.C. 1979. Spot, skel en verwante verskynsels in Afrikaans. PhD-proefskrif, Universiteit Stellenbosch.
Carstens, W.A.M. en N. Bosman (reds.). 2017. Kontemporêre Afrikaanse taalkunde. 2de uitgawe. Pretoria: Van Schaik.
Combrink, J.G.H. 1990. Afrikaanse morfologie: capita exemplaria. Pretoria: Academica.
Dekker, L. 1991. Vloek, skel en vulgariteit: hantering van sosiolinguistiese aanstootlike leksikale items. Lexikos, 1:52–60.
Eberhard Karls Universität Tübingen. 2020. Adjectives in GermaNet. https://uni-tuebingen.de/en/faculties/faculty-of-humanities/departments/modern-languages/department-of-linguistics/chairs/general-and-computational-linguistics/ressources/lexica/germanet/description/adjectives (24 Junie 2020 geraadpleeg).
Efthymiou, A. 2017. Intensification and deintensification in modern Greek verbs. Lexis Journal in English Lexicology, 10:1–17.
Esterhuizen, H.L. 1974. Intensivering in Afrikaans. MA-verhandeling, Universiteit van die Vrystaat.
Feinauer, A.E. 1981. Die taalkundige gedrag van vloekwoorde in Afrikaans. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.
Goldberg, A.E. 1995. Constructions: a construction grammar approach to argument structure. Chicago: Chicago University Press.
Hartmann, S. 2019. Compound worlds and metaphor landscapes: affixoids, allostructions, and higher-order generalizations. Word Structure, 12(3):298–333.
Hendrikx, I., K. van Goethem, F. Meunier en P. Hiligsmann. 2017. Language-specific tendencies towards morphological or syntactic constructions. Nederlandse Taalkunde, 22(3):389–420.
Hoeksema, J. 2012. Elative compounds in Dutch: properties and developments. In Oebel (red.) 2012.
Hoppe, G., A. Kirkness, E. Link, I. Nortmeyer, W. Rettig en G.D. Schmidt (reds.). 1987. Deutsche Lehnwortbildung: Beiträge zur Erforschung der Wortbildung mit entlehnten WB-Einheiten im Deutschen. Tübingen: Narr.
Hundsnurscher, F. en J. Splett. 1982. Semantik der Adjektive des Deutschen: Analyse der semantischen Relationen. Wiesbaden: VS Verlag.
Kehayov, P. 2009. Taboo-intensifiers as polarity items: evidence from Estonian. Languay Typology ad Univerals, 62(1):140–64. https://doi.org/10.1524/stuf.2009.0009.
Leuschner, T. 2010. Ausnahmepianist fettgeschreckt – inbleich!: deutsche, nierländische und schwedische Präfixoide im Spannungsfeld von Genealogie, Kreativität und Norm. Germanistische Linguistik, 206–9:863–92.
Leuschner, T. en N. Decroos. 2007. Woordvorming tussen systeem en norm: affixoïden in het Duits en in het Nederlands. Phrasis (Gent): Studies in language and literature, 2:89–120.
Ljung, M. 2011. Swearing: a cross-cultural linguistic study. New York: Palgrave Macmillan.
Meibauer, J. 2013. Expressive compounds in German. Word Structure, 6(1):21–42. DOI: 10.3366/word.2013.0034.
Michel, J.-B., Y.K. Shen, A.P. Aiden, A. Veres, M.K. Gray, Google Books Team, J.P. Picket, D. Hoiberg, D. Clancy, P. Norvig, J. Orwant, S. Pinker, M.A. Nowak en E.L. Aiden. 2011. Quantitative analysis of culture using millions of digitized books. Science, 331(6014):176–82.
Motsch, W. 1996. Affixoide: Sammelbezeichnung für Wortbildungsphänomene oder Linguistische Kategorie? Deutsch als Fremdsprache, 33:160–8.
Napoli, D.J. en J. Hoeksema. 2008. Just for the hell of it: a comparison of two taboo-term constructions. Journal of Linguistics, 44(2):347–78.
Nederlandse Taalunie. 2005. Woordenlijst Nederlandse taal. Tielt: Lanno.
Nübling, D. en M. Vogel. 2004. Fluchen und Schimpfen Kontrastiv: Zur sexuellen, krankheitsbasierten, skatologischen und religiösen fluch- und schimpfwortprototypik im Niederländischen, Deutschem und Schwedischen. Germanistische Mitteilungen: Zeitschrift fur deutsche Sprache, Literatur und Kultur, 59:19–33.
Oebel, G. 2011. Der deutsche “Volkssuperlativ” über Entstehen, Entwicklung und Vorkommenshäufigkeit. Journal of the Faculty of Culture and Education, Saga University, 16(1):149–155.
Oebel, G. (red.). 2012. Intensivierungskonzepte bei Adjektiven und Adverben im Sprachenvergleich / Crosslinguistic comparison of intensified adjectives and adverbs. Hamburg: Verlag Dr. Kovac.
Pedraza, A.P. (red.). 2018. Linguistic taboo revisited: novel insights from cognitive perspectives. Berlyn: Mouton de Gruyter.
Ruette, T. 2018. Why do the Dutch swear with diseases? In Pedraza (red.) 2018.
Ruppenhofer, J., M. Wiegand, R. Wilm en K. Markert. 2018. Distinguishing affixoid formations from compounds. In Bender, Derczynski en Isabelle (reds.) 2018.
Sandra, D., R. Rymenans, P. Cuvelier en P. van Petegem (reds.). 2007. Tussen taal, spelling en onderwijs. Essays bij het emeritaat van Frans Daems. Gent: Academia Press.
Schmidt, G.D. 1987. Das affixoid: zur Notwendigkeit und Brauchbarkeit eines beliebten Zwischenbegriffs der Wortbildung. In Hoppe, Kirkness, Link, Nortmeyer, Rettig en Schmidt (reds.) 1987.
Smedts, W. 2007. De tussen-n in dikke woorden als beresterk en paddebloot. In Sandra, Rymenans, Cuvelier en Van Petegem (reds.) 2007.
Stratton, J.M. 2020. Adjective intensifiers in German. Journal of Germanic Linguistics, 32(2):183–215.
Trollip, B. 2021. The meaning of affixoids in Afrikaans. Referaat aangebied by die Zürich Werkswinkel oor Afrikaanse Linguistiekteorie en -struktuur, 4–5 Oktober 2021. https://bit.ly/3T8CnWd.
—. 2022. Morfologiese evalueringskonstruksies in Afrikaans. PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit.
Van den Toorn, M.C. 1983. Enkele types van samengestelde adjectieven. Leuvense Bijdragen, 72(3):257–71.
Van der Merwe, C.E. 1996. Gaytaal. MA-verhandeling, Universiteit van Johannesburg.
Van der Sijs, N. 2001. Chronologisch woordenboek: de ouderdom en herkomst van onze woorden en betekenissen. Amsterdam: Uitgeverij L.J. van Veen. https://www.dbnl.org/tekst/sijs002chro01_01 (3 Februarie 2022 geraadpleeg).
Van Goethem, K., M. Norde, E. Coussé en G. Vanderbauwhede (reds.). 2018. Categorial change from a constructional perspective. Amsterdam: Benjamins.
Van Huyssteen, G.B. 2017. Die aard, doel en omvang van die Afrikaanse woordelys en spelreëls. Deel 1. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(1–2):323–45. http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n2-1a7.
—. 2021. Swearing in South Africa: multidisciplinary research on language taboos. Proceedings of the International Conference of the Digital Humanities Association of Southern Africa 2021, 29 November–3 Desember. https://doi.org/10.55492/dhasa.v3i01.3854 (2 April 2022 geraadpleeg).
VivA (Virtuele Instituut vir Afrikaans). 2022. Korpusportaal. http://viva-afrikaans.org (24 April 2022 geraadpleeg).
Wante, E. 2009. Personale suffixoide im deutschen und niederländischen. MA-verhandeling, Gent Universiteit.
Eindnotas
1 Vir ’n bespreking van die sentrale posisie wat konstruksies as vorm-betekenis-pare in konstruksionalistiese taalkundige benaderings het, raadpleeg onder andere Goldberg (1995) en Booij (2010).
2 Die notasiekonvensies in hierdie artikel is dieselfde as wat in Trollip (2022:14) uiteengesit word, naamlik die ÷ wat gebruik word om affiksoïede aan te dui, die + wat komponente in komposita aandui, en die · wat gebruik word om affikse aan te dui. Die enigste morfeem wat in die glosse voorkom, is die interfiks, wat deur lk aangedui word.
3 https://repo.sadilar.org/handle/20.500.12185/566.
4 https://www.woordeboek.co.za/?qi=92285&offset=0.
5 Dit is opmerklik dat ’n algemeen aanvaarde konstruksie met hond+, naamlik hond+s·getrou, slegs een trefslag in VivA-KPO het.
6 Woordfrekwensieklas word as metriek gebruik om die rou frekwensies vergelykbaar te maak. Vir ’n uiteensetting van die metriek en die betekenis daarvan, raadpleeg Trollip (2022:11–12) en Van Huyssteen (2017:337).
7 https://www.merriam-webster.com/dictionary/dog-tired.
8 https://bit.ly/dog_intensification.
9 Die proses om intensiewe vorme in Engels te ondersoek, verskil van die proses vir Afrikaans, aangesien komposita in Engels dikwels as twee woorde geskryf word. ’n Soektog na “dog tired” kan tot ’n trefslag lei, maar dan miskien in ’n sin soos “Is your dog tired or lazy?”
11 https://www.duden.de/rechtschreibung/Praefixoid.
12 Die afkortings wat in die kolom gebruik word, is die volgende: Afr. = Afrikaans, D. = Duits, Eng. = Engels, F. = Fries en Ndl. = Nederlands.
13 Kyk afdeling 3.4 vir ’n bespreking van skyt÷, slet÷ en tering÷.
14 In Afrikaans kan vrek eerstens ’n naamwoord wees wat na ’n gierige persoon verwys, terwyl die taboewoord ’n werkwoord is wat na die dood van veral diere, of neerhalend na dié van mense, verwys.
15 https://www.duden.de/rechtschreibung/scheisz_.
16 Produktiwiteit in die eng sin word gebruik, soos verwoord deur Baayen en Lieber (1991:809): Die totale frekwensie van die konstruksies wat slegs een keer voorkom se verhouding tot die totale frekwensie van daardie spesifieke konstruksie.
17 Dit moet egter vermeld word dat moer en moerse meer algemeen as adverbia, soos baie en bitter, los van die adjektief geskryf word.
Bylae
Tabel 5. Woordfrekwensieklas (N) van dood÷-konstruksies
VivA-KPO | VivA-KPE | |||||
MEK | N | Trefslae | MEK | N | Trefslae | |
die = 15 529 096 | die = 1 209 996 | |||||
doodstil | 12 | 2 953 | doodeenvoudig | 11 | 494 | |
doodgewoon | 13 | 2 652 | doodstil | 11 | 486 | |
doodeenvoudig | 14 | 1 130 | doodgewoon | 13 | 202 | |
doodseker | 14 | 958 | doodreg | 13 | 196 | |
doodluiters | 15 | 615 | doodseker | 13 | 121 | |
doodmoeg | 15 | 449 | doodluiters | 14 | 64 | |
doodnormaal | 15 | 342 | doodbang | 15 | 40 | |
doodbang | 16 | 270 | doodnormaal | 16 | 26 | |
doodernstig | 16 | 218 | doodgelukkig | 16 | 17 | |
doodreg | 16 | 211 | doodmoeg | 17 | 13 | |
doodsbleek | 16 | 186 | doodernstig | 17 | 11 | |
doodgelukkig | 17 | 155 | doodonskuldig | 17 | 10 | |
doodtevrede | 17 | 130 | doodgoed | 18 | 5 | |
doodeerlik | 17 | 97 | doodeerlike | 18 | 4 | |
doodnatuurlik | 17 | 97 | doodnatuurlik | 18 | 4 | |
doodkalm | 18 | 72 | doodsgevaarlik | 18 | 4 | |
doodonskuldig | 18 | 68 | doodtevrede | 18 | 4 | |
doodsbenoud | 18 | 57 | doodbedaard | 19 | 2 | |
doodsiek | 18 | 56 | doodbekommerd | 19 | 2 | |
doodmaklik | 18 | 45 | doodhonger | 19 | 2 | |
doodbenoud | 19 | 41 | doodkalm | 19 | 2 | |
doodgoed | 19 | 35 | doodnugter | 19 | 2 | |
doodrustig | 19 | 33 | doodsbelangrik | 19 | 2 | |
doodveilig | 19 | 29 | doodsiek | 19 | 2 | |
doodbekommerd | 19 | 26 | doodveilig | 19 | 2 | |
doodhonger | 19 | 26 | doodhêppie | 20 | 1 | |
doodnugter | 19 | 22 | doodlogiese | 20 | 1 | |
doodlogies | 20 | 14 | doodmaklik | 20 | 1 | |
doodverveeld | 20 | 13 | doodrustig | 20 | 1 | |
doodarm | 21 | 10 | doodsbenoud | 20 | 1 | |
doodbedaard | 21 | 10 | doodsbleek | 20 | 1 | |
doodvervelig | 21 | 10 | doodsnaaks | 20 | 1 | |
doodgewillig | 21 | 9 | doodverlief | 20 | 1 | |
doodnuuskierig | 21 | 9 | ||||
doodlekker | 21 | 8 | ||||
doodmenslik | 21 | 8 | ||||
doodreguit | 21 | 8 | ||||
doodverbaas | 21 | 8 | ||||
doodgemaklik | 21 | 7 | ||||
doodongelukkig | 21 | 7 | ||||
doodsedig | 21 | 7 | ||||
doodgemiddeld | 21 | 6 | ||||
doodsekuur | 21 | 6 | ||||
doodvaak | 21 | 6 | ||||
doodvas | 22 | 5 | ||||
doodlus | 22 | 4 | ||||
doodskuldig | 22 | 4 | ||||
doodverleë | 22 | 4 | ||||
doodverlief | 22 | 4 | ||||
doodwit | 22 | 4 | ||||
doodduidelik | 22 | 3 | ||||
doodgeduldig | 22 | 3 | ||||
doodhappy | 22 | 3 | ||||
doodjammer | 22 | 3 | ||||
doodkoud | 22 | 3 | ||||
doodlui | 22 | 3 | ||||
doodmak | 22 | 3 | ||||
doodmoeilik | 22 | 3 | ||||
doodoortuig | 22 | 3 | ||||
doodstadig | 22 | 3 | ||||
doodverlig | 22 | 3 | ||||
doodverskrik | 22 | 3 | ||||
doodvriendelik | 22 | 3 | ||||
doodalleen | 23 | 2 | ||||
dooddors | 23 | 2 | ||||
doodellendig | 23 | 2 | ||||
doodgaar | 23 | 2 | ||||
doodgelyk | 23 | 2 | ||||
doodkoel | 23 | 2 | ||||
doodnoodsaaklik | 23 | 2 | ||||
doodonverskillig | 23 | 2 | ||||
doodsaai | 23 | 2 | ||||
doodsangsbevange | 23 | 2 | ||||
doodsdonker | 23 | 2 | ||||
doodsdors | 23 | 2 | ||||
doodsimpel | 23 | 2 | ||||
doodskaars | 23 | 2 | ||||
doodsleg | 23 | 2 | ||||
doodswart | 23 | 2 | ||||
doodver | 23 | 2 | ||||
doodvererg | 23 | 2 | ||||
doodverstom | 23 | 2 | ||||
doodverwonderd | 23 | 2 | ||||
doodvies | 23 | 2 | ||||
doodakuraat | 24 | 1 | ||||
doodanders | 24 | 1 | ||||
doodangstig | 24 | 1 | ||||
doodbekend | 24 | 1 | ||||
doodbetyds | 24 | 1 | ||||
dooddronk | 24 | 1 | ||||
doodeng | 24 | 1 | ||||
doodflou | 24 | 1 | ||||
doodgedwonge | 24 | 1 | ||||
doodgesond | 24 | 1 | ||||
doodgoedkoop | 24 | 1 | ||||
doodgraag | 24 | 1 | ||||
doodgretig | 24 | 1 | ||||
doodgrootste | 24 | 1 | ||||
doodgrou | 24 | 1 | ||||
doodhard | 24 | 1 | ||||
doodintiem | 24 | 1 | ||||
doodjaloers | 24 | 1 | ||||
dood-konvensionele | 24 | 1 | ||||
doodkort | 24 | 1 | ||||
doodkwaad | 24 | 1 | ||||
doodlam | 24 | 1 | ||||
doodlank | 24 | 1 | ||||
dood-leeg | 24 | 1 | ||||
doodleuters | 24 | 1 | ||||
doodlief | 24 | 1 | ||||
doodmaer | 24 | 1 | ||||
doodmiddelmatige | 24 | 1 | ||||
doodnaby | 24 | 1 | ||||
doodneutrale | 24 | 1 | ||||
doodnuttig | 24 | 1 | ||||
doodonnatuurlik | 24 | 1 | ||||
doodonrustig | 24 | 1 | ||||
doodordentlike | 24 | 1 | ||||
doodoud | 24 | 1 | ||||
doodpresies | 24 | 1 | ||||
doodprettig | 24 | 1 | ||||
doodsat | 24 | 1 | ||||
doodsbeangs | 24 | 1 | ||||
doodsblou | 24 | 1 | ||||
doodsekerlik | 24 | 1 | ||||
doodsellendig | 24 | 1 | ||||
doodslim | 24 | 1 | ||||
doodsnaaks | 24 | 1 | ||||
doodsuiwer | 24 | 1 | ||||
doodverlate | 24 | 1 | ||||
doodvermoeid | 24 | 1 | ||||
doodverslete | 24 | 1 | ||||
doodverswyg | 24 | 1 | ||||
doodvroeg | 24 | 1 |
Tabel 6. Woordfrekwensieklas (N) van poes÷-konstruksies
VivA-KPO | VivA-KPE | |||||
MEK | N | Trefslae | MEK | N | Trefslae | |
die = 16 556 480 | die = 1 298 362 | |||||
poesbaie | 20 | 19 | poesbaie | 13 | 175 | |
poesklein | 20 | 18 | poesgroot | 13 | 156 | |
poesgroot | 20 | 15 | poesdronk | 14 | 99 | |
poesdronk | 20 | 13 | poeshard | 14 | 95 | |
poescool | 21 | 10 | poesduur | 14 | 94 | |
poesduur | 21 | 9 | poescool | 14 | 82 | |
poeslekker | 21 | 8 | poesdom | 14 | 59 | |
poeshard | 21 | 7 | poeslekker | 15 | 53 | |
poesdom | 21 | 6 | poeswarm | 15 | 40 | |
poeslank | 21 | 6 | poesvinnig | 15 | 36 | |
poes-aaklig | 22 | 5 | poeshot | 15 | 33 | |
poesbedroef | 22 | 5 | poeslank | 15 | 33 | |
poessnaaks | 22 | 5 | poessnaaks | 15 | 33 | |
poesasem | 22 | 4 | poesbedroef | 15 | 32 | |
poeskoud | 22 | 4 | poesryk | 15 | 29 | |
poeskak | 22 | 3 | poesbly | 16 | 25 | |
poeslelik | 22 | 3 | poesmooi | 16 | 25 | |
poesryk | 22 | 3 | poeskoud | 16 | 23 | |
poesvinnig | 22 | 3 | poeslelik | 16 | 17 | |
poesbedroewend | 23 | 2 | poesmaklik | 16 | 16 | |
poesmooi | 23 | 2 | poesmal | 16 | 16 | |
poesou | 23 | 2 | poesgoed | 16 | 15 | |
poeswarm | 23 | 2 | poesarm | 17 | 13 | |
poesarm | 24 | 1 | poesboring | 17 | 12 | |
poesbang | 24 | 1 | poesgevaarlik | 17 | 11 | |
poesbasic | 24 | 1 | poesklein | 17 | 11 | |
poesboring | 24 | 1 | poesbang | 17 | 10 | |
poesdeurmekaar | 24 | 1 | poescheap | 17 | 8 | |
poesgevaarlik | 24 | 1 | poeshonger | 17 | 8 | |
poesgoed | 24 | 1 | poesvroeg | 17 | 8 | |
poesgraag | 24 | 1 | poesbesig | 18 | 7 | |
poesgrim | 24 | 1 | poesver | 18 | 6 | |
poeshectic | 24 | 1 | poesgraag | 18 | 5 | |
poeshot | 24 | 1 | poesmoeg | 18 | 5 | |
poesmal | 24 | 1 | poesmoeilik | 18 | 5 | |
poesmoeilik | 24 | 1 | poeshectic | 18 | 4 | |
poesnice | 24 | 1 | poeslui | 18 | 4 | |
poesvuil | 24 | 1 | poesnice | 18 | 4 | |
poeszef | 18 | 4 | ||||
poesaaklige | 19 | 3 | ||||
poesbasic | 19 | 3 | ||||
poesbelangrik | 19 | 3 | ||||
poesdeurmekaar | 19 | 3 | ||||
poesdronkslaan | 19 | 3 | ||||
poesgaaf | 19 | 3 | ||||
poesgrim | 19 | 3 | ||||
poeshoog | 19 | 3 | ||||
poeskief | 19 | 3 | ||||
poeskwaad | 19 | 3 | ||||
poes-obvious | 19 | 3 | ||||
poesoud | 19 | 3 | ||||
poesrowwe | 19 | 3 | ||||
poesseer | 19 | 3 | ||||
poesskerp | 19 | 3 | ||||
poessterk | 19 | 3 | ||||
poesvet | 19 | 3 | ||||
poesvuil | 19 | 3 | ||||
poesweird | 19 | 3 | ||||
poesbedompig | 19 | 2 | ||||
poesdiep | 19 | 2 | ||||
poeskoel | 19 | 2 | ||||
poeskwaai | 19 | 2 | ||||
poespienk | 19 | 2 | ||||
poestrots | 19 | 2 | ||||
poesvol | 19 | 2 | ||||
poeswyd | 19 | 2 | ||||
poesblind | 20 | 1 | ||||
poesdadelik | 20 | 1 | ||||
poesdors | 20 | 1 | ||||
poesfunny | 20 | 1 | ||||
poeshappy | 20 | 1 | ||||
poesjags | 20 | 1 | ||||
poeslame | 20 | 1 | ||||
poespuik | 20 | 1 | ||||
poesrelevant | 20 | 1 |
Tabel 7. Woordfrekwensieklas (N) van kak÷-konstruksies
VivA-KPO | VivA-KPE | |||||
MEK | N | Trefslae | MEK | N | Trefslae | |
die = 16 556 480 | die = 1 298 362 | |||||
kaksleg | 21 | 8 | kakbaie | 13 | 166 | |
kakgevaarlik | 21 | 6 | kaksnaaks | 14 | 63 | |
kaksnaaks | 21 | 6 | kaklekker | 14 | 58 | |
kakhard | 22 | 5 | kakhard | 15 | 43 | |
kaklekker | 22 | 5 | kakwarm | 15 | 31 | |
kakwarm | 22 | 5 | kaksleg | 16 | 27 | |
kakbang | 22 | 3 | kakduur | 16 | 16 | |
kakboring | 22 | 3 | kakgevaarlik | 17 | 14 | |
kakduur | 22 | 3 | kakbang | 17 | 13 | |
kakmal | 23 | 2 | kakdom | 17 | 13 | |
kakzef | 23 | 2 | kakboring | 17 | 10 | |
kakbelangrik | 24 | 1 | kakmoeilik | 17 | 9 | |
kakbesige | 24 | 1 | kakzef | 17 | 9 | |
kakdronk | 24 | 1 | kakmal | 17 | 8 | |
kakflou | 24 | 1 | kakbesig | 18 | 7 | |
kakgeel | 24 | 1 | kaklelik | 18 | 6 | |
kakhou | 24 | 1 | kakvinnig | 18 | 6 | |
kaklaag | 24 | 1 | kakdronk | 18 | 5 | |
kak-low-budget | 24 | 1 | kaklang | 18 | 5 | |
kakskaam | 24 | 1 | kakryk | 18 | 4 | |
kakspyt | 24 | 1 | kakarm | 19 | 3 | |
kakvêr | 24 | 1 | kakbelangrik | 19 | 3 | |
kakvet | 24 | 1 | kakfunny | 19 | 3 | |
kakvuil | 24 | 1 | kakgroot | 19 | 3 | |
kakmaklik | 19 | 3 | ||||
kakmin | 19 | 3 | ||||
kakseer | 19 | 3 | ||||
kakstadig | 19 | 3 | ||||
kakbly | 19 | 2 | ||||
kakboos | 19 | 2 | ||||
kakgoed | 19 | 2 | ||||
kakhappy | 19 | 2 | ||||
kakhot | 19 | 2 | ||||
kakloads | 19 | 2 | ||||
kaklui | 19 | 2 | ||||
kakvroeg | 19 | 2 | ||||
kakweird | 19 | 2 | ||||
kak-amped | 20 | 1 | ||||
kakcheap | 20 | 1 | ||||
kakcool | 20 | 1 | ||||
kakdodgy | 20 | 1 | ||||
kakdroog | 20 | 1 | ||||
kakeenvoudig | 20 | 1 | ||||
kakflou | 20 | 1 | ||||
kakhartseer | 20 | 1 | ||||
kakjaloers | 20 | 1 | ||||
kakjammer | 20 | 1 | ||||
kakkersnaaks | 20 | 1 | ||||
kaklaag | 20 | 1 | ||||
kaklame | 20 | 1 | ||||
kak-low-budget | 20 | 1 | ||||
kakmooi | 20 | 1 | ||||
kaknat | 20 | 1 | ||||
kak-sad | 20 | 1 | ||||
kakskaam | 20 | 1 | ||||
kakskelm | 20 | 1 | ||||
kakskuldig | 20 | 1 | ||||
kakskurf | 20 | 1 | ||||
kakslim | 20 | 1 | ||||
kakspyt | 20 | 1 | ||||
kakstout | 20 | 1 | ||||
kakvêr | 20 | 1 | ||||
kakvet | 20 | 1 | ||||
kakvuil | 20 | 1 |
Tabel 8. Woordfrekwensieklas (N) van vrek÷-konstruksies
VivA-KPO | VivA-KPE | |||||
MEK | N | Trefslae | MEK | N | Trefslae | |
die = 15 529 096 | die = 1 209 996 | |||||
vrekbang | 18 | 67 | vrekbang | 16 | 20 | |
vrekwarm | 20 | 13 | vreksnaaks | 17 | 8 | |
vrekduur | 21 | 8 | vrekduur | 18 | 5 | |
vrekmooi | 22 | 5 | vreklelike | 19 | 2 | |
vreksnaaks | 22 | 5 | vreklig | 19 | 2 | |
vrekdors | 22 | 4 | vrekbaie | 20 | 1 | |
vrekkoud | 22 | 4 | vrekbesig | 20 | 1 | |
vreklekker | 22 | 4 | vrekdapper | 20 | 1 | |
vrekarm | 22 | 3 | vrekdom | 20 | 1 | |
vrekmaer | 22 | 3 | vrekgoed | 20 | 1 | |
vrekmoeg | 22 | 3 | vrekgoedkoop | 20 | 1 | |
vrekmoeilik | 22 | 3 | vrekhoog | 20 | 1 | |
vreknuuskierig | 22 | 3 | vrekkoue | 20 | 1 | |
vreksuinig | 22 | 3 | vreklekker | 20 | 1 | |
vrekgraag | 23 | 2 | vreklus | 20 | 1 | |
vrekhoog | 23 | 2 | vrekonnosel | 20 | 1 | |
vrekjaloers | 23 | 2 | vrekoulik | 20 | 1 | |
vrekmin | 23 | 2 | vrekseer | 20 | 1 | |
vrekvervelig | 23 | 2 | vreksiek | 20 | 1 | |
vrekbaie | 24 | 1 | vrektrots | 20 | 1 | |
vrek-famous | 24 | 1 | vrekvinnig | 20 | 1 | |
vrekgelukkig | 24 | 1 | vrekwarm | 20 | 1 | |
vrekgeskok | 24 | 1 | ||||
vrekhonger | 24 | 1 | ||||
vreklelik | 24 | 1 | ||||
vreklui | 24 | 1 | ||||
vrekseer | 24 | 1 | ||||
vrekskraal | 24 | 1 | ||||
vreksleg | 24 | 1 | ||||
vrekslim | 24 | 1 | ||||
vreksteil | 24 | 1 | ||||
vreksterk | 24 | 1 | ||||
vrekstoutste | 24 | 1 | ||||
vrekswaar | 24 | 1 | ||||
vrekverlief | 24 | 1 | ||||
vrekverlig | 24 | 1 | ||||
vrekverveeld | 24 | 1 | ||||
vrekvreemd | 24 | 1 | ||||
vrekvroeg | 24 | 1 | ||||
vrekvuil | 24 | 1 |
Tabel 9. Woordfrekwensieklas (N) van moer÷-konstruksies
VivA-KPO | VivA-KPE | |||||
MEK | N | Trefslae | MEK | N | Trefslae | |
die = 16 556 480 | die = 1 298 362 | |||||
moersnaaks | 23 | 2 | moerbaie | 17 | 9 | |
moersterk | 23 | 2 | moersnaaks | 19 | 2 | |
moervinnig | 23 | 2 | moerdronk | 20 | 1 | |
moerbang | 24 | 1 | moerduur | 20 | 1 | |
moerdronk | 24 | 1 | moergewild | 20 | 1 | |
moergoed | 24 | 1 | moerlank | 20 | 1 | |
moergrootte | 24 | 1 | moerlekker | 20 | 1 | |
moer-interessante | 24 | 1 | moers-af | 20 | 1 | |
moerlang | 24 | 1 | moersnaaks | 20 | 1 | |
moerlekker | 24 | 1 | moersterk | 20 | 1 | |
moermal | 24 | 1 | moerstrots | 20 | 1 | |
moerou | 24 | 1 | ||||
moers-gelowige | 24 | 1 | ||||
moerstrots | 24 | 1 | ||||
moersvreeslike | 24 | 1 | ||||
moer-weird | 24 | 1 |
Tabel 10. Woordfrekwensieklas (N) van doos÷-konstruksies
VivA-KPO | VivA-KPE | |||||
MEK | N | Trefslae | MEK | N | Trefslae | |
die = 16 556 480 | die = 1 298 362 | |||||
doosdronk | 20 | 23 | doosdronk | 16 | 23 | |
dooslekker | 23 | 2 | doosdom | 18 | 4 | |
doosbaie | 24 | 1 | doosboos | 19 | 3 | |
dooshard | 24 | 1 | doosduur | 19 | 3 | |
dooshonger | 24 | 1 | doosvinnig | 19 | 2 | |
doosvinnig | 24 | 1 | doosastrante | 20 | 1 | |
doosbelangrik | 20 | 1 | ||||
doosbly | 20 | 1 | ||||
doosgroot | 20 | 1 | ||||
dooshard | 20 | 1 | ||||
dooskwaad | 20 | 1 | ||||
dooslank | 20 | 1 | ||||
dooslekker | 20 | 1 | ||||
dooslelik | 20 | 1 | ||||
doosmoeg | 20 | 1 | ||||
doosryk | 20 | 1 |
Tabel 11. Woordfrekwensieklas (N) van pis÷-konstruksies
VivA-KPO | VivA-KPE | |||||
MEK | N | Trefslae | MEK | N | Trefslae | |
die = 16 556 480 | die = 1 298 362 | |||||
pisduur | 22 | 4 | pismaklik | 17 | 11 | |
piscool | 22 | 3 | piscool | 18 | 7 | |
pisgoed | 23 | 2 | piskoud | 19 | 2 | |
piskoud | 23 | 2 | pisbang | 20 | 1 | |
pismaklik | 23 | 2 | pislekker | 20 | 1 | |
pisbang | 24 | 1 | ||||
pis-eenvoudige | 24 | 1 | ||||
pisglad | 24 | 1 | ||||
pisnydig | 24 | 1 | ||||
pissnaaks | 24 | 1 |
Tabel 12: Woordfrekwensieklas (N) van hel÷-konstruksies
VivA-KPO | VivA-KPE | |||||
MEK | N | Trefslae | MEK | N | Trefslae | |
die = 16 556 480 | die = 1 298 362 | |||||
helwarm | 20 | 18 | helsnaaks | 20 | 1 | |
helhoog | 22 | 4 | helwarm | 20 | 1 | |
helbesig | 24 | 1 | ||||
heldom | 24 | 1 | ||||
helledors | 24 | 1 | ||||
helgoed | 24 | 1 | ||||
helheet | 24 | 1 | ||||
helhonger | 24 | 1 | ||||
helvinnig | 24 | 1 | ||||
helwit | 24 | 1 |
- Hierdie artikel se fokusprent is geskep deur Laura Paraschivescu en is verkry op Unsplash.
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.
The post ’n Gebruiksgebaseerde beskrywing van Afrikaanse prefiksoïede first appeared on LitNet.
The post ’n Gebruiksgebaseerde beskrywing van Afrikaanse prefiksoïede appeared first on LitNet.