|
Opsomming
Die doel van hierdie artikel is om die gebruik van kleur in Karel Schoeman se twee Ierse dagboeke, Berig uit die vreemde: ’n Ierse dagboek (1966) en Van ’n verre eiland: ’n Tweede Ierse dagboek (1968), te ondersoek om te bepaal of die oorweldigende gebruik van kleur in die twee dagboeke wel slegs “vingeroefeninge” was soos Schoeman in sy outobiografie aanvoer, en om te soek na opmerklike ooreenkomste tussen Schoeman se gebruik van kleur en dié van Virginia Woolf, na wie hy as die “grootste enkele literêre invloed” op sy lewe verwys. Die artikel verskaf ’n kort oorsig oor Schoeman se leesgewoontes as kind en die invloed van Virginia Woolf op hom asook sy verblyf in Ierland; ’n opsomming van die resensies ná die publikasie van die Ierse dagboeke; ’n biografiese skets van Virginia Woolf en haar ontwikkeling as skrywer; en die agtergrond tot Woolf se gebruik van kleur. Hierna word die ontwikkeling van teorieë oor lig en kleur kortliks beskryf, met die fokus op die verband tussen Johann Wolfgang von Goethe, Roger Fry, Marcel Proust, Ludwig Wittgenstein en hulle moontlike invloed op Virginia Woolf, en deur haar op Karel Schoeman. Inhoudsontleding is gebruik om woorde, temas of begrippe wat met kleur verband hou uit die tekste te onttrek, en vergelykende navorsing is gebruik om die inligting kwalitatief te ontleed en die data kwantitatief uit te beeld.
Opsommend is gevind dat Schoeman met die skryf van die Ierse dagboeke wel sy taal- en skryfvermoë kon geoefen het en dat hy dit waarskynlik onder die invloed van Virginia Woolf se skryfwerk gedoen het, aangesien verskeie ooreenkomste in die aanwending van kleurterme en kleurbeskrywings gevind is. Schoeman se vermoë om sedert sy vroeë-twintigerjare met woorde te skilder, kan nie betwis word nie. Die Ierse dagboeke is dalk liries en kenmerkend van idealiserende impressionisme (Minnaar 1964:15), maar vir skrywers en opkomende skrywers kan die Ierse dagboeke steeds as gids dien in die gebruik van lig, kleur en skadu om toneel en atmosfeer in ’n roman met woorde te skilder.
Trefwoorde: Ierse dagboeke; inhoudsontleding; Roger Fry; kleurgebruik in romans; kleurskakerings; kleurteorieë; ligteorieë; Marcel Proust; Karel Schoeman; vergelykende navorsing; Ludwig Wittgenstein; Virginia Woolf
Abstract
Karel Schoeman, Virginia Woolf and the colours in the “Irish diaries”: a comparative investigation
The purpose of this article was to examine the use of colour in Karel Schoeman’s two “Irish diaries”, Berig uit die vreemde: ’n Ierse dagboek (1966) (Report from afar: An Irish diary) and Van ’n verre eiland: ’n Tweede Ierse dagboek (1968) (Of a distant island: A second Irish diary), to determine whether the overwhelming use of colour in the two diaries was merely “finger exercises” as Schoeman claimed in his autobiography, and to investigate whether there are notable similarities between Schoeman’s use of colour and that of Virginia Woolf, whom he refers to as the “greatest single literary influence” in his life. The article provides a summary of Karel Schoeman’s advanced reading habits as a child, the influence of Catholicism, his stay in Ireland, and his impressions of Virginia Woolf’s writing. After this, the influence of the development of theories of light and colour is briefly described, with a focus on the relationship between Johann Wolfgang von Goethe, Roger Fry, Marcel Proust, Ludwig Wittgenstein, and their possible influence on Virginia Woolf and through her on Karel Schoeman. Content analysis is used to extract words, themes, or concepts in texts and qualitatively analyse them, while comparative research is used to quantify the data.
As a child, Schoeman already read books too advanced for other children his age. At the age of eleven, he read religious books that attracted him to Catholicism and would later lead him to Ireland. At sixteen, he discovered Virginia Woolf’s novels and he describes it as the “greatest single literary influence” in his life. It was also at this age that he started writing and applied her word choices and prose rhythms in his own writing. He underwent training in Catholicism at the Franciscans in Pretoria and travelled to Ireland in August 1961 with the aim of going through the novitiate in Killarney. Schoeman was struck by the colours of Ireland and writes that he became aware of light as an essential element in a landscape in Ireland. He started keeping a diary of his daily experiences and later published the two Irish diaries from these notes.
Virginia Woolf published her first book, The Voyage Out, in 1915. As a writer, Virginia Woolf is known for the unusual themes of her books and her experimental writing style. Because she wanted to depict nature descriptions similar to an impressionistic painting with words, she studied the use of colour and light in painting and the philosophies of colour and light in science. She was influenced by Roger Fry and Ludwig Wittgenstein, who in turn were influenced by Goethe. She was overwhelmingly impressed by the books of Marcel Proust, who also studied the effect of light and colour and applied it in his prose. Schoeman, as an obsessive reader, also read the books of these philosophers and was aware of their theories.
From the content and comparative analyses, it was found that Schoeman excessively uses colour in the Irish diaries and that there are many similarities between his colour descriptions and those of Virginia Woolf. Green, white, grey, and blue play an important role in the books of both writers, but it should be noted that Schoeman’s two diaries are measured against Virginia Woolf’s total prose works.
In summary, it was found that with the writing of the Irish diaries, Schoeman was able to practise his language and writing abilities and that he probably did so under the influence of Virginia Woolf’s writing since several similarities were found in the use of colour terms and descriptions. However, Schoeman’s ability to paint with words since his early twenties cannot be disputed. The Irish diaries may be lyrical and characteristic of idealizing impressionism (Minnaar 1964:15), but for writers and emerging writers, the Irish diaries can still serve as a guide in the use of light, colour, and shade to paint scenes and atmosphere using words.
Keywords: comparative analysis; content analysis; Roger Fry; Irish diaries; Marcel Proust; Karel Schoeman; theories of colour; theories of light; use of colour in novels; Ludwig Wittgenstein; Virginia Woolf
1. Inleiding
Karel Schoeman is op 26 Oktober 1939 in Trompsburg in die Vrystaat gebore, die enigste kind van sy Nederlandssprekende moeder. Hulle verhuis in Desember 1943 eers na Kaapstad vir ’n kort rukkie en in 1944 na die Paarl. In sy outobiografiese Die laaste Afrikaanse boek: Outobiografiese aantekeninge, beskryf Schoeman (2002:80–1) sy herinneringe aan daardie jare, ’n tyd wat hy en sy ma slegs op mekaar aangewese was: “die weerloosheid van die kind en die eensaamheid en moed van die vrou”. Hy herroep sy ervaring as vierjarige seuntjie wat saam met sy ma na huisvesting soek: “die felheid van die son, die swaar skadu onder die eike en die koel, donker, skemeragtige interieur van die gebou, die dowwe glans van vloer en meubels”. Hy was ’n kind wat duidelik dinge intens ervaar het, ’n alleenmens wat nie maklik met mense gekommunikeer het nie (124). Hy onthou die betowering wat hy ervaar het as sy ma of oupa vir hom gelees het (83) en hoe die ritme van die kinderrympies wat hy as kind gehoor het hom sy lewe lank sou bybly.
Uit sy outobiografie blyk sy vroeg-ontwikkelde liefde vir die letterkunde duidelik. Hy skryf dat hy as vyfjarige die film Tom Brown’s schooldays gesien het (110), op “agt of nege” in toneelstukke begin belangstel het (108), op dieselfde ouderdom opvoedkundige en kultuurhistoriese plekke begin besoek het en toe ook al alles gelees het wat hy kon kry (126). “Meer as geur of smaak, as klank of gevoel” skryf Schoeman, was dit nie “mense, ontmoetings, gesprekke of ervarings” wat hom beïnvloed en gevorm het nie, maar die boeke wat hy gelees het (192). Hy onthou dat hy op ses reeds begin het om boeke te leen, uit te neem of te koop (194), tot só ’n mate dat hy op agt daarvan bewus geraak het dat sy keuse van boeke “ongebruiklik” was vir ’n kind van sy ouderdom. Hy het vinnig bo die vlak van die jeugboeke in die biblioteekversameling uitgestyg en met “onversadigbare en onkritiese boekeverslinding feitlik alles gelees ... wat voorkom” (198). In sy outobiografie lys Schoeman ’n indrukwekkende aantal literêre werke wat hy as kind gelees het en waaruit hy 50 jaar later steeds dele korrek kon aanhaal. Dit was juis as gevolg van hierdie leeshonger dat Schoeman as elfjarige religieuse boeke begin lees het wat hom tot die Katolisisme aangetrokke gemaak het en wat sy paaie later na Ierland sou lei (317) – een van die eerste toonaangewende invloede op sy lewe.
Die tweede invloed was die boeke van Virginia Woolf. Schoeman (218) ontdek as 16-jarige Woolf se romans en beskryf dit as die “grootste enkele literêre invloed in my lewe” (218; Viljoen 2004:113). Die vyf titels (133, 220) wat sy verbeelding aangegryp het, was Mrs Dalloway (1925), To the lighthouse (1927), The waves (1931), The years (1937) en Between the acts (1941). Dit was, volgens Schoeman, 14 jaar na haar dood, met ander woorde ongeveer in 1955. Min is op daardie stadium in die pers oor haar boeke gesê en min mense het Schoeman se geesdrif oor haar werke gedeel. Dit moet in ag geneem word dat dit in daardie jare uiters moeilik moes gewees het om resensies, veral van boeke wat in ander lande uitgegee is, te bekom. Tydens Schoeman se studentejare kon hy egter wel meer oor haar uitvind, alhoewel hy noem dat hy nie in haar “liefdesverhoudings en geestelike probleme” belanggestel het nie, maar net in haar fiksie.
Hy noem dat die eksperimentele aard van Woolf se skryfkuns in The waves en die wyse waarop sy die see beskryf hom vir altyd sou bybly: “die beweging van die lig, die voëls, die blinding roerloos voor die venster” (219). Dit was die manier waarop sy die werklikheid ánders weergegee het wat hom beïndruk het; hy het uit haar boeke besef dat daar in ’n roman geen storie of intrige hoef te wees nie, maar dat die innerlike ontwikkeling en die wyse waarop woorde die ontwikkeling weergee van ’n verhaal letterkunde maak. Ook die beelde en ritmes in To the lighthouse het hom bygebly, en die manier waarop Woolf “asof terloops in die verbygaan” inligting verstrek wat ook elders in die verhaal gebeur. Hierdeur het hy geleer om te vertel “deur aan te dui of te verswyg, hoe om te onthul deur te ontwyk”. Hy beskryf die ontroering wat die einde van To the lighthouse by hom gelaat het, “die gevoel dat jy iets ervaar, meegemaak of deurleef het en deur hierdie ervaring geraak is” (220). Die karakter in The waves, Mrs Ramsay, beskryf hy as “’n ware skepping”, asof sy “’n afdruk sal nalaat op die grond as sy daaroor sou loop” (220).
Schoeman gaan voort deur te skryf dat Woolf in sy lewe gekom het toe hy self ernstig begin skryf het, dat sy as “uitmuntende stilis” ’n groot en blywende invloed op hom gehad het en dat haar “presiese woordkeuse en kenmerkende prosaritmes” in sy onbewuste agtergebly het. Ten spyte daarvan dat hy baie en baie wyd gelees het, sonder hy drie skrywers uit wat hy bo ander skrywers verkies: Dickens, Tolstoi en Woolf (228). Hy noem dat sy vorming as skrywer “grotendeels ongemerk, onmerkbaar, onmeetbaar en onbepaalbaar” beïnvloed is deur die skrywers se boeke wat hy by die openbare biblioteek in die Paarl uitgeneem het – en ook hier verwys hy eerstens na Woolf (235). Jare later, in Bloemfontein, ontdek hy Woolf se “twee stimulerende bundels essays” onder die titel The common reader, waaruit hy leer dat dit moontlik is om “geleerdheid met aanvoeling, leesbaarheid en styl te kombineer” (273).
Woolf se invloed op hom was groot, tegnies en stilisties (286), hoewel ander skrywers en ander boeke ook sy aanvanklike skryfkuns beïnvloed het. Hy noem dat hy in Death comes for the Archbishop van Willa Cather geleer het van kleure: die “crystal light” en die “red carnelian-coloured hills”, van Gone with the wind deur Margaret Mitchell wat goeie skryfwerk was, van The call of the veld van Leonard Flemming hoe die liefde vir die Vrystaatse vlakte uitgebeeld kan word, en van vele ander boeke en skrywers wat nie hier genoem kan word nie. Reeds op skool het hy begin skryf aan stories, beïnvloed deur die boeke wat hy gelees het, en in 1960 voltooi hy die novelle Veldslag wat as sy debuut uitgegee is. Hy het dit as ’n “eksperiment” (301) in Afrikaans geskryf, ’n eksperiment wat geslaag het en waarna hy besluit dat hy nooit in ’n ander taal as Afrikaans wil skryf nie. Die grondslag vir sy toekoms was gevestig.
Die doel van hierdie kort oorsig oor Schoeman se lewe is om klem te lê op die leeshonger van Schoeman as besonder intelligente kind en die vlak van letterkunde wat hy reeds as kind en jongmens gelees het, boeke wat tot sy geestelike ontwikkeling bygedra het en sy skryfkuns gevoed en gevorm het. Hierdie artikel handel veral oor die kleure waarin Schoeman Ierland geskilder het in sy twee Ierse dagboeke, en daardeur veral die invloed wat Woolf moontlik op hierdie gebruik van kleur uitgeoefen het. ’n Kort oorsig oor sy verblyf in Ierland word as agtergrond geskets.
2. Verblyf in Ierland
Schoeman stel reeds as kind in die Katolisisme belang (Schoeman 2002:198). Hy ontdek die geestelike skrywers Thomas Merton en Columba Marmion se boeke en maak kennis met die filosofieë van onder andere Jean Pierre de Caussade en Charles de Foucauld. Teen die middel van sy derde jaar op universiteit besluit hy dat hy, ná hy sy graad voltooi het, ’n monnik gaan word omdat “die oorgawe nie net volledig [moes] wees nie, maar tot die uiterste gevoer wat in terme van die Katolisisme moontlik was” (317). Pas nadat hy daarna sy opleiding in die Katolisisme by die Fransiskane in Pretoria voltooi het, reis hy in Augustus 1961 as 21-jarige na Ierland, met die doel om die novisiaat by die Broederhuis te Killarney te deurloop (Coetzee en Pieterse 2023:3).
Die Ierland waarin hy aankom was “verbasend landelik, ou vroue met swart sjaals oor hulle koppe, eselkarretjies wat die melkkanne romery toe neem, primitiewe boerehuisies met grasdakke laag agter foksiaheinings weggeduik, en turfvure” (329). Oral was verwaarlosing en verval sigbaar en ’n algemene gees van verslaenheid was by die mense sigbaar. Schoeman onthou die kleure van Ierland: “die stralende, intense groen”, “die Ierse lig, verbreek en verstrooi deur die vogtige lug en weerkaats deur die ontelbare watervlakke”, “die sonlig [wat] kom en gaan en kleur uitgloei en verdwyn” (329). Hy noem dat dit hiér was wat hy bewus geraak het van lig as wesenlike element in ’n landskap, ook in die “skerper en helderder landskappe van die Vrystaat” (329).
Gaeliese Ierland is in die 12de eeu deur Engeland ingeval en verkeer deur baie eeue in ’n konstante stryd met die Engelse bewind. In 1801 word Ierland deel van die Verenigde Koninkryk, en die eeu daarna word gekenmerk deur die wrede onderdrukking van die Ierse boere. Ná die Ierse vryheidsoorlog (1919–1921) word die eiland in twee verdeel, Ierland in die suide en Noord-Ierland, wat steeds deel van die Verenigde Koninkryk is (Royal 2012:94). Killarney en Galway, die twee dorpies waar Schoeman as novise en belydende Fransiskaan gaan woon het, is aan die suidwestelike kant van Ierland geleë, tussen die berge en riviere wat van dié gebied ’n besondere mooi landskap maak.
Killarney het sedert die vroeë Ierse geskiedenis ’n belangrike deel van die Ierse beskawing gevorm en het verskeie kastele, katedrale en antieke geboue wat daarvan ’n gewilde toeriste-aantreklikheid maak. Killarney sluit ook Innisfallen in, ’n eiland waar die ruïne van die Innisfallen Abdy, wat reeds in 640 gebou is en tot en met 1594 bewoon is, steeds gesien kan word. Verskeie ander kloosters en kerke is ook in Killarney te sien, waaronder die ruïne van die Muckross Abdy en die Fransiskaanse Broederhuis en kerk (Killarney 2021).
Schoeman word in Oktober 1962 vanaf Killarney na Galway vir verdere studie oorgeplaas. Galway is ’n hawestad in die weste van Ierland, geleë aan die Galwaybaai. Die stad ontstaan in ongeveer 1124 rondom die fort van die Koning van Connacht en ontwikkel oor die jare tot ’n gesogte handelspos weens die maklike toegang tot die eiland vir skepe. In Galway het Schoeman in ’n “drieverdiepinggebou agter die hoë muur op ’n uitgestrekte perseel aan die buitewyke van die stad” gewoon (Schoeman 2002:342).
Die kloosterlewe was nie wat Schoeman verwag het nie, en om hom heeldag tussen ander mense te bevind, ’n “vreemde en onaangename ervaring” (336). Die novisemeesters van die Ierse Minderbroeders in Killarney het begrip vir Schoeman se teruggetrokkenheid getoon en hom toegelaat om tyd in die novisiaatsbibliotekie te spandeer. Hier kon hy sy studie van Ierland se geskiedenis, wat reeds vroeër in Pretoria ’n aanvang geneem het, voortsit. Die novisemeesters het Schoeman ook toegelaat om ’n dagboek te hou (312; 328). In dié boekie het hy aantekeninge uit sy geestelike leesstof gemaak, sy indrukke van die land opgeteken en notas geskryf oor die daaglikse bedrywighede in en om die klooster. Hy skryf dat die dagboek vir hom ’n ontvlugting geword het, ’n eensydige gesprek met sy Suid-Afrikaanse volksgenote, notas wat hy nie noodwendig wou publiseer nie. Tóg publiseer hy later uit hierdie dagboek die twee Ierse dagboeke: Berig uit die vreemde (1966) en Van ’n verre eiland (1968), wat vir die doeleindes van hierdie artikel kortliks bespreek sal word.
3. Die Ierse dagboeke
Voordat die eerste Ierse dagboek, Berig uit die vreemde, in 1966 gepubliseer word, het Schoeman reeds vier ander boeke op sy kerfstok: Fransiskus van Assisi: ’n Lewenskets (1965); Fransiskus van Sales: Sy lewe en werk (1965); Die hart van die son: ’n Roman oor die lewe van Shakespeare (1965); en Veldslag (1965). Kort daarna verskyn nóg drie boeke: By fakkellig (1966), ’n Lug vol helder wolke (1967) en Spiraal (1968). Die tweede Ierse dagboek, Van ’n verre eiland, word ook in 1968 gepubliseer, en kort daarna, in 1969, Lig in die donker: ’n Roman oor die lewe van Rembrandt. Terwyl hy in Ierland is vertaal Schoeman ook verskeie werke uit Iers en skryf ’n aantal artikels. Die jarelange behoefte aan skryf het in Ierland in hom losgeruk.
Die twee Ierse dagboeke behels outobiografiese reisbeskrywings waarin Schoeman verslag lewer oor sy ontdekkings en indrukke van Ierland tydens sy verblyf by die Fransiskane. Schoeman beskryf die dagboeke as “vroeë vingeroefeninge” waarin hy sy ervaringe “oordrewe-positief” opgeteken het met “eensydige optimisme en die gevolglike oppervlakkigheid” (Schoeman 2002:328; Burger 2003:10). Ierland se natuurskoon het Schoeman diep geraak: sy intense belewing van die omgewing in en om sowel Killarney as Galway word breedvoerig in die boeke beskryf, op so ’n wyse dat die leser ’n werklikheidsgevoel van die omgewing, die geboue, die plante en die kleure van die omgewing beleef (Coetzee en Pieterse 2023:8). Kannemeyer (1983:530) beskou die boeke as ’n “verkenning van die Ierse geskiedenis, die ‘siel’ van die volk en ’n besonder gevoelige waarneming van die alledaagse gang van die natuurdinge: die mistige herfs, die winter met sy koue, die grysheid van die dae en die dikwels bedrieglike somer”.
Berig uit die vreemde word simpatiek deur die lesers ontvang. Louw (1966) beskou die boek as merkwaardig, geskryf in ’n “byna klassieke eenvoud en puurheid” met pragtige beskrywings van die jaargetye, die opbruisende herfs, die reënerige somer en die lang, donker winter. In Die Beeld van 4 September 1966 word Schoeman se “fyn digterlike aanvoeling wat gestalte vind in die vloeiende, singende eenvoud van die prosa” geloof en word die boek beskryf as ’n “liriese prosagedig vir die fynproewer”. Die resensent, J.M.E. (1966:25), meen egter dat die boek grens aan “mooiskrywery” wat die indruk skep dat Schoeman besig was om sy stylvermoë te ondersoek en die taal te toets – en dat die boek die resensent herinner aan ’n “impressionistiese landskapskildery”. Hiermee sou Schoeman (2002:328) later saamstem. Volgens Minnaar (1984:15) het die dagboek ’n subjektivisme eie aan impressionisme en is dit sprekend van ’n “idealiserende vertelhouding”. Minnaar skryf dat die natuur- en landskapbeskrywings ’n sensitiewe kwaliteit weerspieël: buitelyne vervaag en verander by elke ligval, seisoen na seisoen skuif verby, en “die skynsel van ’n onbegryplike glorie rus op die alledaagse”, terwyl die natuurskoon deel van die geestelike ervaring en heilsgebeure is (Minnaar 1984:16).
Van ’n verre eiland, wat in 1968 verskyn, bestaan uit aantekeninge oor Schoeman se tyd as kloosterling in Gaillimh (Galway). Die boek word deur verskeie resensente (Blignault 1969:2; Joubert 1968:77; Louw 1968:62) geloof vir die besondere taalgebruik en die liriese beskrywings van die Ierse landskap. Kannemeyer (1968) skryf dat die boek ’n “sensitiewe reaksie van ’n gevoelige mens op die klein, alledaagse gang van die natuurdinge” verskaf en die siel van die Ierse volk weergee. Barnard (1968) beskou Schoeman as ’n sensitiewe mens en gevoelige skrywer maar, meen Barnard, dit is juis dít wat die swakte in Van ’n verre eiland is: “Wanneer mens bladsy na bladsy moet lees oor die weer, oor ‘wye turf-velde waar die vleikatoen blom tussen die riet’, oor braambessies en vingerhoedjies en vleirose en madeliefies, die soetheid van bosviooltjies en die fyn wit van die wilde bronkors en die teerblou van die veronika en sagte wolke wat los deur die lug heen drywe, dan gaan dit later, ná sewentig en tagtig bladsye, moeilik af”. Cloete (1968:178) weer, sien die filosofiese in die natuurtonele “vol poësie en prag”, in die beskrywings wat volgens hom nie net oor die pragtige weer en landskap gaan nie, maar oor “die tydlose dinge, ‘die ewige’ wat in die tydelike geopenbaar word”. Volgens Cloete is baie van die natuurbeskrywinge juis só geskryf dat die “werklike onwerklik word, d.w.s. tydeloos, net soos omgekeerd die godsdienstige seremonies weer die geloofsgeheime werklikheid maak” (Cloete 1968:179).
Was hierdie twee boeke “vingeroefeninge” waarmee Schoeman sy taal- en skryfvermoë geoefen het? Indien wel, waarom die liriese natuurbeskrywings en die oormatige gebruik van kleur? Vir hierdie artikel word Schoeman se gebruik van kleur in die Ierse dagboeke ondersoek aan die hand van die invloed wat Woolf op sy vroeëre skryfkuns gehad het, en daarmee saam die moontlike invloed wat filosofiese skrywers se teorieë oor lig en kleur op Woolf gehad het. Die navorsingsvraag is dus: Tot watter mate is Karel Schoeman se gebruik van kleur in sy Ierse dagboeke deur die werke van Woolf beïnvloed? Om hierdie vraag te beantwoord, is dit nodig dat antwoorde op die volgende vrae gesoek word:
- Karel Schoeman beskou Virginia Woolf as “die grootste enkele literêre invloed” op sy lewe. Wie of wat het Woolf beïnvloed?
- Het kleur ’n rol in Woolf se skryfkuns gespeel?
- Is dit moontlik dat Woolf se gebruik van kleur in natuurbeskrywings ’n invloed op die soortgelyke beskrywings van die Ierse dagboeke gehad het?
- Kan Schoeman se gebruik van kleur in die Ierse dagboeke as “taal- en vingeroefeninge” na aanleiding van Woolf se literêre invloed beskou word?
4. Navorsingsplan
Hierdie artikel poog om ’n verband te vind tussen die gebruik van kleur en lig in die Ierse dagboeke van Schoeman en die skryfwerk van Woolf. Om daarin te slaag, is dit nodig om ’n diepgaande literatuurstudie van verskeie bronne te onderneem: die Ierse dagboeke en die outobiografie van Schoeman, verskeie boeke van Woolf en soveel moontlik akademiese artikels wat die onderwerp en aansluitende aspekte behandel. Aangesien die omvang van hierdie artikel nie ’n volledige studie van Woolf se boeke kan insluit nie, is sleutelterme met behulp van rekenaartegnologie uit elektroniese kopieë van haar boeke onttrek. Verder word ’n oorsigtelike literatuurstudie oor die ontwikkeling van die teorieë van kleur en lig, en die gebruik van kleur in die letterkunde ingesluit om as agtergrond vir die ondersoek te dien.
Inhoudsontleding word gebruik om sekere woorde, temas of begrippe uit tekste te onttrek en kwalitatief te ontleed terwyl vergelykende navorsing gebruik word om die data kwantitatief uit te beeld. Vergelykende navorsing is ’n gemengde navorsingsmetode waarmee ten minste twee dinge – byvoorbeeld voorwerpe, idees, skrywes (of in hierdie geval woorde) – deur die integrering van kwalitatiewe en kwantitatiewe data vergelyk en gekontrasteer word met die doel om te wys hoe hierdie “dinge” óf ooreenstem, óf verskil (Goodrick 2014:5; Walk 2007:2; Pickvance 2001:17). Data is met behulp van verskeie statistiese rekenaarprogramme ontleed en word met behulp van datavisualiseringsprogramme, byvoorbeeld Flourish, visueel aangebied. Die verskillende skakerings van kleure is met behulp van die heksadesimale kleurkode en die RGB-formule vir kleure van Google bekom en ingesleutel om die illustrasies te skep en die kleure so korrek moontlik weer te gee.
’n Oorsig oor die lewe en werk van Virginia Woolf word vervolgens verskaf, aangevul deur ’n opsommende beskrywing van die ontwikkeling van die teorieë oor lig en kleur en die filosowe wat die gebruik van lig en kleur in die letterkunde en skilderkuns bestudeer het en moontlik invloed op Woolf en Schoeman uitgeoefen het.
5. Virginia Woolf
5.1 Biografiese skets
Adeline Virginia Stephen is op 25 Januarie 1882 in Londen gebore (Blair 2010:1). Haar ma sterf toe sy net 13 jaar oud is, haar halfsuster twee jaar later en haar pa in 1904. Virginia stort kort hierna ineen en haar lewenslange stryd teen depressie begin. Die gesin, onder leiding van haar oudste suster Vanessa, trek na Bloomsbury, ’n voorstad van Londen, gewild onder kunstenaars, skrywers en polimate (Encyclopedia Britannica 2023). Op ouderdom 26, tydens ’n vakansie in Italië, besluit Woolf dat sy die skoonheid van kuns eerder deur woorde wil uitbeeld as deur skilderye. In haar dagboek van daardie jaar (Woolf 1909:91) skryf sy: “I would like to write not only with the eye but with the mind”. Virginia en Vanessa het in 1905 die Bloomsbury Groep gestig en hier ontmoet sy verskeie kunstenaars en skrywers betrokke by moderne en postmoderne kuns, waaronder Leonard Woolf, met wie sy in 1912 trou (Bressan 2018:32; Lingxiang 2015:45). Sy publiseer haar eerste boek, The voyage out, in 1915 nadat sy van depressie en poging tot selfdood herstel het (Encyclopedia Britannica 2023).
As skrywer is Woolf bekend vir die ongewone temas van haar boeke en haar eksperimentele skryfstyl. Omdat sy veral natuurbeskrywings soortgelyk aan ’n impressionistiese skildery in woorde wou uitbeeld, bestudeer sy die gebruik van kleur en lig in die skilderkuns en die filosofieë van kleur en lig in die wetenskap (Dackombe 2003:27; Blair 2010:1). Hierin word sy beïnvloed deur Roger Fry, wat sy in 1905 by die Bloomsbury Groep ontmoet (Bressan 2018:33). Woolf was van mening dat woorde net soveel, of meer, as skilderye, foto’s en films kan weergee (Li 2023:1; Blair 2010:6), en dat kleur, uitgedruk in woorde, emosies suksesvol kan uitbeeld en gevolglik ook by die leser emosie sal wek. Sy begin om skaduwee, lig en die effek van lig te gebruik om tydsverloop gedurende die dag aan te dui: in die oggende is die kleure helder, in die namiddag en aande dof, en dit word dowwer soos die tyd deur die dag verloop (Blair 2010:17, 24). Sy het ook gesoek na woorde om byvoorbeeld ’n maanligaand, ’n stroom en bome na die reën te beskryf (Bressan 2018:37, 57; Lyon 1977:63). Sy het daarin geslaag om die beweging en effek van lig kleurvol te beskryf: “the look of clouded emerald which the downs wear, the semi-transparent look as the sun and shadows change, and the green becomes now vivid now opaque” (Stewart 1982:238). Deur kleur, lig en skaduwee te gebruik slaag sy daarin om die fisiese voorkoms van mense, hulle aksies, karakters en gedagtes uit te beeld (Çakirtaş 2014:54). In later jare, veral nadat sy Proust se boeke begin lees het, het sy kleur meer filosofies begin gebruik en het sy na ’n nuwe manier gesoek om gevoel deur middel van kleur uit te druk (Gillespie 1988:278; Woolf 1967:39).
Woolf sterf op 28 Maart 1941 deur haar sakke met klippe te vul en in die Ouserivier in Londen in te loop (Encyclopedia Britannica 2023).
Omdat die doel van hierdie artikel is om te bepaal tot watter mate Woolf se gebruik van kleur in Schoeman se Ierse dagboeke gereflekteer word, moes die agtergrond van kleur nagevors en die direkte invloed wat die menings van ander in hierdie opsig op Woolf uitgeoefen het, nagespeur word. Hierin staan veral Marcel Proust, Ludwig Wittgenstein, Roger Fry en Johann Wolfgang von Goethe uit. Vervolgens word ’n oorsig oor die lewe en werk van elk van hierdie persone aangebied.
5.2 Woolf se gebruik van kleur: agtergrond
Kleur word gedefinieer as “die voorkoms/tint van iets (rooi, blou, geel, groen, oranje, pers, ens.) wat die gevolg is van die manier waarop dit lig weerkaats” (HAT 2015:631). Genoeg bewyse bestaan in die literatuur dat lig en kleur reeds deur Plato en Aristoteles en hulle opvolgers bestudeer is (Meyer 2017:2, 7; Bressan 2018:28). Johannes Kepler en Isaac Newton is veral bekend daarvoor dat hulle gedurende die 17de eeu die teorie van kleur intens bestudeer het. Newton ontdek die verskillende golflengtes van lig deur lig deur ’n glasprisma te skyn en beskryf daardeur die verskillende kleure van die kleurspektrum (Bressan 2018:28). Die kleurspektrum behels sewe basiese kleure wat altyd in dieselfde volgorde voorkom en waarvan die wydte van die kleurstroke van kleur na kleur verskil, maar dan weer tot wit lig gegroepeer kan word (Meyer 2017:9).
Johann Wolfgang von Goethe het in 1793 met lig en kleur begin eksperimenteer omdat hy Newton se bevindinge oor kleur betwis het. Goethe was ’n Duitse skrywer, regsgeleerde en wetenskaplike wat in 1749 in Frankfurt, Duitsland gebore is. In sy boek Theory of colours (Goethe 1840) wat in 1810 in Duits as Zur Farbenlehre gepubliseer is, het hy kleur beskryf as die optiese effek van lig – of die afwesigheid van lig – soos deur die oog waargeneem en deur die brein onthou (Çakirtaş 2014:57; Dackombe 2003:44). Goethe skryf dat die oog, net soos die wêreld buite die mens, oor kleur beskik en dus deur – en vir – lig gevorm is. In hierdie opsig het Goethe se teorie met die filosofieë van die antieke wetenskaplikes ooreengestem (Zajonc 1975:329). Goethe was ook van mening dat kleure en skakerings van die unieke persepsie van elke individu afhang (Erickson 1991:115). Met sy navorsing het hy ontdek dat daar twee stelle kleure bestaan: “warm” kleure wat oor wit oppervlakke verskyn (rooi, oranje en geel) en “koue” kleure wat oor swart oppervlakke verskyn (blou, indigo [donkerpers] en violet [ligpers]). Groen is ’n grenskleur wat deur die vermenging van geel en blou ontstaan en helderpienk (magenta), deur ’n vermenging van rooi en blou (Zajonc 1975:330). Figuur 1 hier onder toon Goethe se bekende kleurwiel waardeur hy sy waarneming geïllustreer het. Goethe het ook die vermenging van lig en donker in die natuur bestudeer en bevind dat “warm” kleure verskyn as lig deur donkerte gestraal word (soos byvoorbeeld met sonsondergang), en “koue” kleure as donkerte deur lig reflekteer (byvoorbeeld die oppervlakke kleur van die see). Goethe het die twee uiterste kleure as wit en donkerblou beskou (Anscombe 1950:132). Goethe sterf in 1832.
Image may be NSFW.
Clik here to view.
Figuur 1. Goethe se kleurwiel
Bron: Wikimedia Commons 2023 (openbare domein)
Goethe se teorie is wyd bespreek en bestudeer, en moes gevolglik baie kunstenaars beïnvloed het, soos onder andere vir Roger Fry, Ludwig Wittgenstein en Marcel Proust – drie mense wat in Woolf se lewe en haar kuns ’n rol gespeel het.
Roger Fry was ’n skilder, kunskenner, kunskritikus en kampvegter vir modernisme en postmodernisme. Hy is in 1866 in Londen gebore, bestudeer natuurwetenskappe en doseer daarna kunsgeskiedenis aan ’n kunsskool in Londen. Fry het die kuns van die Ou Meesters en van die Franse impressionisme bestudeer en het veral vroeg in die 20ste eeu ’n belangrike rol in die Britse kuns- en kultuuromgewing gespeel (Bressan 2018:41). As student het hy reeds ’n studie van Goethe se teorieë oor kleur en lig gemaak (Blair 2010:1). Fry het die gebruik van kleure as die vernaamste element van kuns beskou en was van mening dat kleur in ’n skildery die emosies en reaksies van mense beïnvloed en ook die individualiteit van die kunstenaar weerspieël (Bressan 2018:42). Fry se teorie oor kubisme en die gevolglike harmonie in kuns (wat voortbou op die teorie van Pablo Picasso) word in 1909 in “An essay in aesthetics” gepubliseer. In sy artikel beklemtoon hy die invloed van lig en skadu en illustreer hy kleur se invloed op die mens deur aan te dui dat woorde om kleure te beskryf, gebruik kan word wat die leser as óf melankolies óf vrolik sal ervaar (Fry 1909:21). Fry sterf in 1934. Ná sy dood beskryf Woolf hom as “a man with limitless appetite for intellectual curiosity” met “a peculiar quality of reality that made him a person of infinite importance” (Jewell 2000:3).
Fry se siening oor kleur in die kunste het heel moontlik ’n invloed op Wittgenstein gehad. Wittgenstein was betrokke by die Bloomsbury Groep deur middel van sy vriendskap met beide Fry en Kaynes (Rosenbaum 1987:161–2;) en die lede het gereeld by Kaynes se huis byeengekom om oor kuns te gesels en menings te deel (Monk 1990:256).
Ludwig Wittgenstein is in 1889 in Wene, Oostenryk gebore. Hy bestudeer eers ingenieurswese en lugvaartkunde in Berlyn en daarna wiskunde aan die Universiteit van Cambridge (Winters 2022:222). Gedurende sy studiejare het hy Newton se teorieë bestudeer en het ook later in sy boek, Tractatus Logico-Philosophicus (Philosophical investigations), wat in 1921 gepubliseer is, na Newton verwys (Anscombe 1950:70; 126; 206). Ná vele omswerwinge word hy in 1926 as dosent by die Universiteit van Cambridge aangestel, waar hy tot in 1947 werk (Winters 2022:223). Gedurende hierdie tyd het hy in Fry se kubisme en Woolf se eksperimentele fiksie begin belangstel (Zumhagen-Yekplé 2015:1101).
Wittgenstein het veral in sense-making en meaning-making in sowel die natuur as literatuur belanggestel (Pohlhaus en Detloff 2016:211), asook in die betekenis en waarneming van taal en die subjektiewe waarneming van kleur (Anscombe 1950:122). Wittgenstein het gesê die mens dink omdat hy kan praat, en praat om in die wêreld te kan bestaan (Erickson 1991:115). Hy het, soos Goethe, die aard van kleur ondersoek (Anscombe 1950:56), en blou as die donkerste en wit as die ligste kleur beskou. Hy het ook gereken dat wit nie deursigtig is nie en nie ’n vermenging van kleure is nie (Anscombe 1950:56; 126). Hierin verskil hy van Leonardo da Vinci se siening wat gemeen het dat “white has the power of receiving all the other colours” (Dackombe 2003:73). Tog het Wittgenstein Goethe se teorie oor kleur onbevredigend bevind; trouens, hy het dit nie as ’n teorie beskou nie (Anscombe 1950:70). Verder het hy geskryf dat Goethe se siening van kleurkombinasies geen waarde vir enige skilder kan inhou nie (Anscombe 1950:90). Een van Wittgenstein se belangrikste sienings was die onderskeid tussen dit wat gesê word en dit wat gewys word (Mitchell 1994:12; Winters 2022:221), veral ten opsigte van kleur. Hierna word gewoonlik as Wittgenstein se Picture theory of language of sy Picture theory of meaning verwys (Winters 2022:221; Plourde 2017:5). Wittgenstein wou bepaal hoe ’n mens kan weet of kan uitdruk wat ’n ander deur byvoorbeeld die kleur rooi of groen bedoel (Dackombe 2003:67). Volgens hom was die doel van taal om te illustreer of om te wys: “When we talk about something and speak about it, we are imagining it. When a structure has familiar words, no further explanation is needed to comprehend the meaning” (Wittgenstein, soos aangehaal in Heshi en Nasrabadi 2016:12). Hy het gesê dat sommige kleure en woorde, veral skakerings en tinte, op ’n spesiale manier gememoriseer moet word om later weer onthou te kan word (Erickson 1991:134). Wittgenstein publiseer sy teorieë oor kleur, Remarks on colour, net voor sy dood in 1951 (Erickson 1991:115).
Fry én Wittgenstein was met Proust se werk bekend. Fry het Proust se boeke in 1914 begin lees (Rosenbaum 1987:252) en sy vriende aangemoedig om ook die boeke te lees omdat hy daarmee beïndruk was (Rosenbaum 2014:5). Baie gou was Proust gewild onder die lede van die Bloomsbury Groep, en het Wittgenstein Proust se boeke by almal aanbeveel (Rosenbaum 2003:147, 215). So het Woolf dus ook van Proust as skrywer kennis geneem.
Marcel Proust was ’n Franse skrywer, gebore in 1871 in Auteuil, Frankryk (Alexander 2009:10). Sy pa was ’n gesogte mediese dokter in wie se skadu Proust gesukkel het om sy voete te vind (De Botton 1997:15). Proust is in wetenskap, geskiedenis, letterkunde, filosofie, musiek en kuns onderrig (Alexander 2009:10), en het verskeie loopbane oorweeg, waaronder dié van prokureur, diplomaat, makelaar, bibliotekaris of priester, voordat hy ná die dood van sy ouers besluit het dat hy net wil skryf (De Botton 1997:15–6). Proust se bekendste werk is À la recherche du temps perdu (In search of lost time), wat in sewe volumes vanaf 1913 tot 1917 gepubliseer is en tussen 1922 en 1931 in Engels uitgegee is (Alexander 2009:15). Nie net was Proust se boeke baie lank nie, maar hy het ook baie lang sinne gebruik. Sy broer het na ’n sin in The captive verwys as sou dit “run on for a little short of four meters and stretch around the base of a bottle of wine seventeen times” (De Botton 1997:29). Proust het kleur as ’n kragtige instrument in die skryfkuns beskou waardeur hy die emosies van sy karakters kon uitbeeld en die emosies van lesers kon aanwakker. Hy het veral blou in verband met hartseer of verlange gebruik en rooi vir passie, liefde of begeerte. Prendergast (2022:1) meen dat Proust wel met Goethe se teorie bekend was alhoewel hy dit nooit genoem het nie. Proust het ook, soos Goethe, gemeen dat die ervaring van kleur van menslike opinie en subjektiwiteit afhanklik is. In ’n opstel oor die kunswerke van Monet beskryf Proust die kleure van die skilderye van Argenteuil, Vétheuil, Epte en Giverny as
[...] those inert hours of the afternoon when the river is white and blue from the clouds and the sky, and green from the trees and the lawns, and pink from the rays of the sun already setting on the trunks of the trees, and in the blackness lit with the red of the thickets in the gardens where the great dahlias are growing. (Prendergast 2022:3)
Proust se karakter Albertine se “plump pink face” verkry ’n “dark violet hue” en by geleentheid “the shade of her cheeks was as deep as the purplish pink of cyclamens” (Prendergast 2022:7). Proust sterf in 1922 aan griep (Alexander 2009:10; De Botton 1997:12).
Van belang vir hierdie artikel is dat al vier, Goethe, Fry, Wittgenstein en Proust, kleur en die uitwerking van kleur op menslike emosie bestudeer het. Dit is ook van belang dat Woolf goed met Fry en Wittgenstein bevriend was. Nie net het sowel Fry as Wittgenstein haar aan die boeke van Proust bekendgestel nie, maar hulle het, as lede van die Bloomsbury Groep, voortdurende gesprekke oor kuns en letterkunde gehad. Tydens hierdie gesprekke moes hulle seker ook oor Goethe se teorieë en die verskillende opvattings oor kleur in die skryfkuns asook die skilderkuns gepraat het. Die vraag ontstaan onwillekeurig: Hoe het die teorieë van hierdie vier mense Woolf se gebruik van kleur in haar boeke beïnvloed?
5.3 Woolf se gebruik van kleur: moontlike invloede
Om aan te neem dat Woolf deur ander mense beïnvloed is omdat sy hulle geken het en hulle boeke gelees het, is uit die aard van die saak subjektief. Gevolglik kan daar slegs sekere aspekte ondersoek word en kan slegs afleidings of aannames daaroor gemaak word.
Uit die literatuur is dit moeilik om te bepaal of Woolf Goethe se werke self gelees of bestudeer het of nie. Die afleiding kan wel gemaak word dat Goethe se teorieë onder die lede van die Bloomsbury Groep bespreek is en dat Woolf by hierdie besprekings teenwoordig was. Çakirtaş (2014:54) noem dat Woolf ’n “Goethe-like experiment” in haar verhaal “Blue and green” onderneem het. In die eerste deel volg green die patroon van lig asof dit teen “fingers of glass” afgly. Hierdeur word verskillende beelde opgeroep, byvoorbeeld die kleure van die vere van ’n parkiet en die kleur van woestynsand (Vorobyova 2020:333). As die glas in die lig verkleur, word die groen druppels blou. Blue vertel dan die verhaal van ’n vet seemonster met blou skubbe wat water deur sy neus uitspuit (Vorobyova 2020:328) voordat hy sink en die blou oor hom toevou. Hieruit kan afgelei word dat sy wel met Goethe se teorie bekend was.
Fry en Woolf was goeie vriende (Blair 2010:2; Bressan 2018:11; Woolf 1940:20). Fry het haar geleer hoe na skilderye gekyk moet word (Dackombe 2003:33), en hoe literatuur deur die oë van ’n skilder bekyk moet word (Bressan 2018:42). Fry het in 1910 ’n kunsuitstalling gehou waarin hoofsaaklik postmoderne skilderye uitgestal is. Woolf skryf na die uitstalling dat haar siening van kleur en karakters na aanleiding van hierdie kunsuitstalling totaal verander het (Dackombe 2003:29; 37). Die bewondering was wedersyds: Fry (1919:724), in ’n bespreking van ’n skildery van Survage (“La Ville”), skryf dat Survage amper dieselfde in verf doen as wat Woolf in prosa doen: sy skilder met woorde, was sy mening.
Dit is nie duidelik uit die literatuur of Wittgenstein Woolf direk beïnvloed het nie. Wittgenstein het wel reeds haar boeke gelees voor hy by die Bloomsbury Groep betrokke geraak het (Rosenbaum 2014:161). Alhoewel hy jonger was as Woolf en heelwat jonger as Fry, was hy ’n besondere akademikus en het in Fry, Proust én Woolf se werke belanggestel (Pohlhaus en Detloff 2016:211; Zumhagen-Yekplé 2015:1101). Hy het ook die aard en subjektiewe waarneming van kleur ondersoek (Anscombe 1950:56) en verskeie lesings hieroor aangebied wat deur Woolf en ander lede van die Bloomsbury Groep bygewoon is (Rosenbaum 2003:215). Woolf verwys na hom in haar briewe aan vriende (Woolf 1922b:151), het dieselfde kuierplekke as hy besoek en dieselfde funksies bygewoon (Misak 2020:80; 241). Die afleiding kan dus wel gemaak word dat sy van Wittgenstein se kleurteorie bewus was.
Proust se invloed op Woolf was, in haar eie woorde, “like sun and wine and grapes and perfect serenity and intense vitality combined” (Woolf 1922b:565–6). Woolf het eers in 1922 begin om Proust te lees (Alexander 1974:3), nadat sy self reeds verskeie boeke gepubliseer het. Sy skryf aan Fry dat sy soos Proust wil skryf – “O, if I can write like that!” – en dat hy tot so ’n mate haar behoefte aan uitdrukking stimuleer dat sy dit skaars in woorde kan uitdruk (Marcus 2011:1). Fry (1972:486) skryf dat daar landskappe in Proust se boeke is wat dinge doen wat skilderye nie kan doen nie. De Botton (1997:139) meen dat deur Proust te lees, dit Woolf amper ontmoedig het om verder te skryf: “She loved the novel, but loved it rather too much”, skryf hy. Woolf skryf op 21 Januarie 1922 aan E.M. Forster: “Everyone is reading Proust. I sit silent and hear their reports. It seems to be a tremendous experience” (Woolf 1922b:565–6), en dan weer later in ’n brief aan Fry: “My great adventure is really Proust. [...] One has to put the book down and gasp” (Lingxiang 2015:461; De Botton 1997:139; Marcus 2011:5).
Dit moet in ag geneem word dat daar baie ander intellektuele met ander sieninge oor kleur en die rol van lig in kleur was en dat daar ander invloede ook op Woolf se skryfkuns kon wees. Haar suster was ’n bekende skilder en haar man ’n befaamde skrywer – hulle sou haar ook beïnvloed het. Die fokus van hierdie artikel val egter op die mees opvallende invloede en ook die persone wat ’n direkte of indirekte invloed op die jong Karel Schoeman gehad het. Figuur 2 beeld die moontlike direkte invloede op Woolf se kleurgebruik uit en hoe dit moontlik via haar op Schoeman ’n invloed kon gehad het.
Image may be NSFW.
Clik here to view.
Figuur 2. Invloed van kleur vanaf Plato tot Schoeman
Figuur 2 illustreer dat Goethe voortgebou het op die werk van die filosowe en navorsers voor hom: die antieke filosowe, Plato, Aristoteles, Kepler en ander, en dan veral Newton wie se teorie oor lig en kleur Goethe betwis het. Fry en Woolf was prominente lede van die Bloomsbury Groep waar Goethe se teorieë as agtergrond vir Fry se boek An essay in aesthetics (1909) bespreek is. Wittgenstein het gereelde kontak met sowel Fry as Kaynes gehad en het van die funksies van die Bloomsbury Groep in Kaynes se huis bygewoon (Monk 1990:256). Daar kan aanvaar word dat Goethe se teorieë ook in Wittgenstein se boek, Philosophical investigations (1921), neerslag kon vind. Fry het Proust se boek In search of time (1913) by Wittgenstein en Woolf aanbeveel. Alhoewel Fry deur die kleuraanwending van Proust beïndruk was, is dit onwaarskynlik dat dit sy teorie sou beïnvloed, want teen daardie tyd was sy boek lank reeds gepubliseer. Wittgenstein en Woolf was egter wel deur die boek beïndruk. Woolf het, ná sy die boek gelees het, die versugting gehad om soos Proust te kan skryf. Sou hierdie invloede via Woolf ’n invloed op Karel Schoeman gehad het?
6. Schoeman se gebruik van kleur: moontlike invloede
Gesien in die lig van bostaande bespreking, kan afgelei word dat Schoeman, nadat hy die boeke van Woolf as 16-jarige “ontdek” het en geweldig deur haar boeke beïnvloed is, en gemeet aan sy leesvermoë, ook Goethe, Fry, Wittgenstein en Proust sou gelees het.
Schoeman ontvang as kind van sy oupa ’n tweedehandse eksemplaar van die biografie van Goethe (Schoeman 2002:227), maar hy noem nie pertinent dat hy dit gelees het nie. Dit kan egter aangeneem word dat hy dit wel sou gelees het omdat hy dit andersins nie sou noem nie, alhoewel dit moeilik is om te bepaal wanneer of op watter ouderdom. Verder skryf Schoeman in sy outobiografie dat hy tydens sy verblyf in Kaapstad verskeie boeke oor filosofie begin lees het, waaronder die boeke van Jung, Rilke, Kafka en van “die filosoof Wittgenstein” (598). Schoeman moes toe ongeveer 50 jaar oud gewees het, naastenby 30 jaar nadat hy in Ierland was en die Ierse dagboeke geskryf het. Hy beskryf dié tyd in Kaapstad as die tyd waarin hy werklik “begin kýk het, nie bloot met ’n oogopslag nie, maar betragtend, oplettend en van naby, en dat [hy] begin het om te sién” (597). Hy skryf verder: “Ek onthou die helder hibiskusblomme, verskillende soorte in verskillende tinte, helderder of bleker rooi, die helderrooies wat uitvlam teen die donker blare, die rooskleuriges deurstraal van die lig, en die vaalpienkes met hul dieprooi, glansende hart”. Tog vind die leser reeds in sy Ierse dagboeke soortgelyke beskrywings, landskapskilderye met woorde geskilder, soos wat hy in Woolf en moontlik in Proust se boeke gesien het. Later in sy lewe sou die gedagtes van Wittgenstein ’n aanvullende invloed op sy kleurgebruik uitoefen. Verskeie soortgelyke beskrywings uit die Ierse dagboeke sal in afdeling 7 hier onder bespreek word.
Schoeman (192) skryf dat Proust as romanskrywer nooit besonderlik tot hom gespreek het nie. Hy noem Proust as een van die “literêre figure” (61) waarmee hy homself nie noodwendig kan vergelyk nie. Vir die skryf van sy outobiografie het hy hom “weer tot Proust gewend” (192) vir leiding met die orden van sy gedagtes. Hy beskou sy teruggryp na die verlede van wit Suid-Afrikaners in sy outobiografie as ’n “Proustiaanse poging” om die verlede te bewaar. Hieruit blyk dit duidelik dat hy van Proust se werke bewus was en Proust as een van die skrywers gelykstaande aan Mann, Hugo en Twain beskou het (61). Dit is egter onduidelik wanneer hy van Proust bewus geraak het, of sy boeke gelees het.
Fry sterf op 9 September 1934, ongeveer vyf jaar voor Schoeman se geboorte op 26 Oktober 1939. Schoeman kon moontlik, later in sy lewe, die biografie van Fry gelees het wat in 1940 gepubliseer is, en moontlik die kommunikasie tussen Woolf en Fry wat as deel van haar bundel briewe in 1922 gepubliseer is. Weer eens lei ’n mens af dat Schoeman van Fry bewus kon wees, en sy teorieë en sy ander boeke dalk gelees het na aanleiding van die verband met Woolf.
7. Die moderne kleurspektrum
Die moderne kleurspektrum sluit meer as ’n duisend kleure in (Meyer 2017:11) en ’n onderskeid word getref tussen die vier “psigologiese” primêre kleure – blou, groen, geel en rooi – en die drie primêre kleure (suiwer rooi, suiwer blou en suiwer geel [met insluiting van swart, wit en grys]) wat in die fisiese aanwending van kleur gemeng kan word om enige ander kleur te skep (Osborne 1968:271). Volgens Van Leeuwen (2011:15, in Meyer 2017:12) behels die moderne siening van kleur dat verskillende psigologiese betekenisse aan ’n kleur gekoppel kan word – dieselfde kleur kan dus verskillende betekenisse hê en verskillende kleure kan gebruik word om een aspek te belig. Meyer (2017:8) bevestig ook dat die ervaring van kleur, benewens ’n sintuiglike ervaring, steeds ook aan die emosionele gekoppel word, soos reeds sedert die vroegste tye bevind is (sien die bevindinge van Goethe, Fry en Wittgenstein hier bo). Verder speel kleur en die gebruik van kleur in ’n narratief ’n belangrike rol in die skep en uitbeeld van ruimte. Winters (2019:7) noem dat ruimte nie deur die beskrywing van lig, vorme en afstande uitgebeeld kan word nie, maar deur die kleure waarmee die ruimtes beskryf word. Sy vind dat Schoeman se benoeming van kleure verband hou met die rol wat hy aan spesifieke ruimtes toeken, veral weens sy filmiese denke en visuele ingesteldheid. Schoeman skryf dat hy in beelde eerder as in woorde dink (Schoeman 2017:117, in Winters 2019:7) en dat hy sy visuele geheue gebruik om tonele te beskryf soos hy dit sien (Schoeman 2002:418). Deur die gebruik van kleur skep Schoeman by die leser ’n beeld, ’n “narratiewe heelal” (Ryan 2014:15), wat van die ruimtelike beskrywing ’n skildery in die leser se bewussyn maak (Winters 2019:2).
Omdat ek by die lees van Schoeman se twee Ierse dagboeke gekonfronteer is met hierdie “skilderye” van die Ierse landskap, het ek met behulp van rekenaartegnologie die gebruik van kleur in die Ierse dagboeke nagevors om ook die ruimtelike ervaring wat dit by my persoonlik geskep het, te verstaan. Omdat die getalle op geskandeerde weergawes van die gedrukte weergawes van die boeke gebaseer is, is daar ’n kans dat die getalle nie totaal korrek is nie, alhoewel die inligting met sorg versamel en gekontroleer is. Die inligting uit Woolf se boeke is eweneens deur middel van ’n elektroniese soekfunksie verkry, waar woorde moontlik foutief gelees kan word. Daar is egter nie net op die getalle wat elektronies bekom is gewerk nie, maar die woorde is sover moontlik een-vir-een nagegaan om foute te vermy.
8. Die kleure van Schoeman se Ierland
Schoeman se Ierland van 1961 tot 1968 (sedert hy in Ierland aankom tot ná die tweede dagboek gepubliseer is) is hoofsaaklik groen. In die twee dagboeke is daar in totaal 1 068 verwysings na kleur, waarvan 201 (18,82%) van die beskrywings na die kleur groen verwys. Daarna volg wit, grys, blou en die wasige skakerings van kleure voor die ander kleure volg. Schoeman gebruik verskeie kleurkombinasies of kleursamestellings om die tonele te skilder, terwyl hy ook kleure as werkwoorde gebruik, soos byvoorbeeld “verblou” en “aangedonker”. In alle gevalle is die kleur of kleure in die dagboeke gebruik soos die leser die woord as óf ’n kleur óf ’n kleurbeskrywing ervaar. Sommige kleure se spelling is aangepas, soos diepblou wat in die dagboeke as diepblou, diep-blou of diep blou geskryf is. Tabel 1 lys die voorkoms van kleure in die Ierse dagboeke: waar groen (201 / 18,82%), wit (128 / 11,98%), grys (79 / 7,39%), blou (71 / 6,64%) en wasige kleure (69 / 6,46%) die vyf kleure of skakerings is waarna die meeste verwys word.
Tabel 1. Voorkoms van kleure in die Ierse dagboeke
Image may be NSFW.
Clik here to view.
Tereg noem Winters (2019:39) Karel Schoeman die Rembrandt van die Afrikaanse taal.
In die eerste Ierse dagboek verwys Schoeman 114 keer na die kleur groen en in die tweede dagboek 87 keer. Hierby ingesluit is die 17 skakerings van groen: appelgroen, diepgroen, diggroen, donsiggroen, fyn groen, smaraggroen, donkergroen, heldergroen, nuwe groen, jubelende groen, vlamgroen, jong groen, milde groen, ryk groen, weelderige groen, goudgroen en teergroen. Figuur 3 illustreer die oorweldigende gebruik van die kleur groen, veral ten opsigte van die landskap en die natuur van Ierland soos Schoeman dit ervaar en onthou het. Die veld is oorheersend groen (met 65 verwysings na die groen veld), daarna die groen land, landskap, heuwels en berge. Die woude, bome en heinings is ook groen, afhangende van die seisoen waarin hy die ervaring beskryf. Opvallend is dat Schoeman nie die intense vorm “grasgroen” in een van die dagboeke gebruik het nie. Woolf gebruik grasgroen net een keer, deur te verwys na die karakter Carinthia se grasgroen oë (Woolf 1941:47).
Image may be NSFW.
Clik here to view.
Figuur 3. Groen in die Ierse dagboeke van Karel Schoeman
Alhoewel Woolf die kleure wit en grys veel meer gebruik as die kleur groen, gebruik sy steeds verskillende skakerings van groen, waarvan sommige ook deur Schoeman gebruik word. In Woolf se boek Orlando (1928:10) maak die leser kennis met die digter wat na ’n lourierbos kyk met die doel om die skakering van groen te bepaal, waarna hy ophou skryf omdat kleur moeilik is om presies te beskryf:
Green in nature is one thing, green in literature another. Nature and letters seem to have a natural antipathy; bring them together and they tear each other to pieces. The shade of green Orlando now saw spoilt his rhyme and split his metre.
Tabel 2 lys die skakerings van groen wat in Woolf se boeke aangetref word, met dié wat Schoeman ook in die twee Ierse dagboeke gebruik, in die kolom aan die regterkant. Alhoewel Woolf veel meer beskrywende terme gebruik het, was haar kleurskema ook baie groen en het Schoeman heelwat soortgelyke skakerings as sy gebruik.
Tabel 2. Skakerings van groen soos gebruik deur Woolf en Schoeman
Image may be NSFW.
Clik here to view.
Uit Tabel 2 en Figuur 3 is dit duidelik dat Schoeman se ervaring van die velde, landerye, plantegroei en heuwels van Ierland groen gekleur was, en dat hy deur sy gebruik van groen ook die leser se narratiewe heelal groen kleur. In die tweede Ierse dagboek skryf Schoeman:
Ierland brand soos ’n edelgesteente wanneer hierdie son uitskyn, met diamantwit wolke en smaraggroen velde. Die sonskyn brand in daardie groen, dit vonkel in die water van die slote en strome, die geel irisse vlam op aan die waterkant. (Schoeman 1966:71)
Die kleur waarna Schoeman die tweede meeste verwys is die kleur wit (terwyl dit die kleur is wat die meeste in Woolf se boeke aangetref word). In die eerste dagboek verwys Schoeman 54 keer na die kleur wit, en in die tweede dagboek 74 keer. Schoeman gebruik meestal die kleur wit om na die sneeu of kapok te verwys, maar beskryf ook die blomblare as sneeuwit, die wolke as helderwit of diamantwit, die mis as melkerigwit, en die huisies as helderwit geverf. Verder beskryf Schoeman die berge as wit, die skuimende of bruisende water as wit, die meeue is ’n “wit menigte in lang wit rye”, die paadjies is wit en die rietlelies, rose, rododendrons en meidoringblomme is wit. Ter illustrasie van Schoeman se gebruik van die kleur wit om ’n ruimtelike beeld by die leser te skep, haal ek die volgende beskrywing van sneeu uit die eerste Ierse dagboek aan:
In die donker het koue en stilte gekristalliseer tot ’n vreemde helderwit prag, en stadig, stadig het die eerste sneeu oor die dorp uitgesak – so stadig en so stil. Een vir een het die vlokkies neergesif, bloot vlokkies, kapok wat lugtig voortsweef, sneeuvlokkies wat langsaam aangedwarrel kom, wit sneeuval wat sigbaar word uit ’n wit lug en geleidelik vinniger verbydwarrel. Soos ’n wit reën, onbeskryflik sag en teer, sak die blankheid neer, en blom in onuitspreeklike suiwerheid in sy vlug. (Schoeman 1966:40)
Woolf beskryf sneeu in The years (1913:125) soos volg:
It was January. Snow was falling; snow had fallen all day. The sky spread like a grey goose’s wing from which feathers were falling all over England. The sky was nothing but a flurry of falling flakes. Lanes were levelled; hollows filled; the snow clogged the streams; obscured the windows, and lay wedged against doors. There was a faint murmur in the air, a slight crepitation, as if the air itself were turning to snow; otherwise all was silent, save when a sheep coughed, snow flopped from a branch, or slipped in an avalanche down some roof in London.
Albei beskrywings is sonder twyfel emosioneel.
Die kleur wat Woolf die meeste gebruik is wit en skakerings van wit. Data uit haar verhale het die volgende skakerings van wit opgelewer: amandelwit, aswit, bergagtig wit, bleekwit, diamantwit, dodelike wit, eierdopwit, geelwit, gryswit, helderwit, ivoorwit, klipsteenwit, koelwit, ikoniese wit, koolwit, lewendige wit, maanwit, melkwit, papierwit, pêrelwit, sagte wit, skerpwit, sneeuwit, suiwer wit, uiters wit, veerwit, verbleikte wit, vlamwit en vurigwit.
Die kleur wat die derde meeste in die Ierse dagboeke aangetref word, is grys. Schoeman verwys 79 keer in die twee Ierse dagboeke na die kleur grys. Hy verwys na die grys strate, grys geboue, grys water, grys mure, grys dakke, grys dae, grys huise, grys stede en grys skadu’s in die skakerings glasgrys, leigrys, silwergrys, vaalgrys en steengrys. Hierteenoor gebruik Woolf die volgende grys kleursamestellings: duifgrys/dove-grey, bleekgrys/pale-grey, grysgroen/grey-green, groengrys/green-grey, grysblou/grey-blue, blougrys/blue-grey, gryswit/grey-white, silwergrys/silwer-grey, skimmelgrys/dapple-grey, donkergrys/dark grey, grysbruin/grey-brown, leiklipgrys/slate-grey, pêrelgrys/pearl-grey en geelgrys/yellow-grey.
Schoeman beskryf sy ervaring van Galway soos volg (1968:17): “Die laaste kleur het verlore gegaan en die stad het in grysheid verval, grys strate en grys geboue onder ’n leikleurige lug, met niks om die vaalheid te verbreek nie”.
Die beeld wat die Ierse dagboeke egter hoofsaaklik oproep, is dié van groen velde onder ’n blou lug vol wit wolke met grys geboue en grys huisies omring deur grys klipmure. Schoeman verwys 71 keer na die kleur blou, en die blou wat hy beskryf sluit ook in bleekblou, diepblou, helderblou, inkblou, ligblou, mistigblou, nuwe blou, sagblou, skerpblou, skadublou, teerblou, vaalblou en wasigblou. Die heuwels, berge en pieke vertoon “blouweg in die verte”, daar is helderblou naaldekokers, teerblou veronikas, helderblou vergeetmynietjies, en blou rietlelies wat wasigblou in die blou rivier dryf. Die kleur blou wek ’n gevoel van rustigheid en kalmte, soos die volgende beskrywing van die naderende herfs met ’n bleekblou lug en sonskyn:
Daar is nog wel sonskyndae wanneer die kaalbruin takke verguld uitstaan teen ’n bleekblou lug en die laaste blare helder gloei, maar hulle gaan verby. Die lug word bleker, die skadu’s langer, die dae koeler. Blaar op blaar draai stadig deur die lug in rustige tuimeling, en gedurende die sonskynmiddae maak ons die deurweekte hopies bymekaar. Die gekriek van die kruiwa, die harke wat skraap op die grintpaadjies, en die yl sonlig wat stadig wegsak deur die lug, weg agter die wasigheid van die berge – so droom ons winter toe. (Schoeman 1966:25)
Woolf slaag daarin om dieselfde rustigheid by die leser te skep in The voyage out (1915:163):
The sun was beginning to go down, and a change had come over the mountains, as if they were robbed of their earthly substance, and composed merely of intense blue mist. Long thin clouds of flamingo red, with edges like the edges of curled ostrich feathers, lay up and down the sky at different altitudes.
Die palet van die skakerings van blou wat in sowel Woolf se boeke as die Ierse dagboeke gevind word, word in Figuur 4 uitgebeeld. Die kleur met ’n * gemerk en sonder ’n Engelse vertaling is die woorde wat slegs Schoeman gebruik het, terwyl die ander woorde deur albei skrywers gebruik is.
Image may be NSFW.
Clik here to view.
Figuur 4. Skakerings van blou soos deur Woolf en Schoeman gebruik
Teenoor die groen, blou, wit en grys, skets Schoeman spatsels rooi, dieprooi, helderrooi, roesrooi, rookrooi, wynrooi, roosrooi en die rooi van verskeie huisies, blomme, granate, bome, rooibeuke, papawers, sambrele, bloeisels en meidoringbessies. Rooi weerkaats in die water en die vensters en die witgerypte oggende skitter met ’n rookrooi sonsopkoms. Alhoewel daar net 26 verwysings na rooi is, net 2,43% van die kleure wat hy noem, skep die samestellings wat hy gebruik ’n kleurvolle beeld en kan die leser veral die rooi blomme teen die groen landskap sien uitstaan:
[...] aan die appelbome drywe blare en bloeisels soos ’n waas, roosrooi bloeisels wat romerig oopvou, en teergroen blare, soos ’n wolk, ’n roerlose reën geurig langs die paadjies [...] die asaleas vertoon reeds lankal en die bosse is suiwer blomme, rooi, vlam, karmosyn, skarlaken, salm, rooskleur en koraal in die groen van die tuin. (Schoeman 1966:71–5)
Tabel 3 illustreer die skakerings van rooi wat deur albei skrywers gebruik is.
Tabel 3. Skakerings van rooi in Woolf en Schoeman
Image may be NSFW.
Clik here to view.
Schoeman se verwysing na die kleur swart hou meestal verband met die beskrywing van die winter waar swart takke, swart bome, swart beeste en swart voëls (hoofsaaklik merels en kraaie), en ’n enkele swart kat teen die wit van die sneeu afsteek. Hy verwys egter ook na die swart klere van die priesters en die nonne, die ou mense met swart sambrele en swart sjaals en toeriste in swart geklee. Teen die winter se wit sneeu en wit ryp, staan die swart metaalrelings en die swart leiklipdakke donker uit en skep dit saam met die mistige reënweer ’n troostelose gevoel. Ook in Woolf se boeke verwys swart na klere, diere of kaal takke in die winter.
In die Ierse dagboeke word bruin gebruik om die habyte te beskryf: die bruin rokke met ’n tou om die middel waarby novises ’n mantel met ’n kap dra. Verder gebruik Schoeman die kleur bruin om, saam met geel, brons en soortgelyke skakerings, die herfs in Ierland te beskryf: bruin blare wat weemoedig wegwaai, bruin grasvelde wat in die verte wasig met groen en blou saamsmelt, bruin en roesbruin varings op die roesbruin heuwels, die kaalbruin takke van rooibruin bome. Figuur 5 beeld die herfsskakerings uit in die woorde wat deur Schoeman hiervoor gebruik is.
Image may be NSFW.
Clik here to view.
Figuur 5. Schoeman se herfskleure
Schoeman se woordkeuse wanneer hy die herfs skilder, skep van die mooiste tonele in die Ierse dagboeke: die leser kan die “rykheid en rypheid” (Schoeman 1966:109) van die herfs sien as die somer oplos en wegvloei in ’n golf wat van boom na boom weg-eb na die winter toe (104). Die ritme wat hy in die boeke van Woolf bewonder het (Schoeman 2002:220) is veral in hierdie beskrywings voelbaar:
Langs die laning het die herfs al swaar en stadig oor die kastaiingbome begin afgly in groen en goud, asof dit die herfsson is wat deur die blare skyn, en selfs die eike, wat nog probeer uithou het, het gewyk, en hul karteling begin verkleur. ’n Koel, helder oggend, groeiende sonskyn, en die gedrup van die nat bome langs die blare af grond toe. [...] Herfs oor die land, wasige dae en vallende blare en die klimop wat verkleur teen die muur, wynrooi en vlam oor die grys steen. Deur die woude van Cill Airne wat wegdrywe in goud, hele plate en banke herfslower wat brand tussen die groen van traer bome, geel, sitroen, koper en brons, vlam, wynrooi en damas – alle paaie verlore, alle heuwels oordek. (Schoeman 1966:20, 131, 132)
Schoeman gebruik ook ander kleure: oranje, turkoois, perkament, brons, goud, rooskleur, karmosyn, skarlaken, salm, koraal, indigo, sitroen, ligroos, damas, bloosrooi, bloedbruin, lila, pers, helderpers, koper en verguld om die ruimtes van Ierland te kleur. Soms gebruik hy ’n verskeidenheid kleure in een paragraaf:
Die varings staan bruin op die heuwels en die woudjies is gestroop; daar lê ’n pers skynsel op die takke van die hegge. Dromende groen velde en die kronkelende paadjie tussen die heinings in waarlangs ons stap; ’n grys klipbruggie oor die treinspoor heen, die pienk huisie wat in ’n hoek wegkruip, weggeduik agter sy tuintjie, en verder af langs die paadjie die lang ry wit cottages onder ’n swart, verweerde leidak. Groen velde in die sonskyn, die verre berge wat wegblou in oneindige teerheid, die herfsson en die wolke wat verward saamwaai, die wit mure van ’n huisie tussen die bome, en die rook van ’n skoorsteen, die stilte van die oggend en die stemme van kinders wat speel. (Schoeman 1966:27)
Woolf gebruik meermale ook ’n verskeidenheid kleure om een toneel te beskryf:
The petals were voluminous enough to be stirred by the summer breeze, and when they moved, the red, blue and yellow lights passed one over the other, staining an inch of the brown earth beneath with a spot of the most intricate colour. The light fell either upon the smooth, grey back of a pebble, or, the shell of a snail with its brown, circular veins, or falling into a raindrop, it expanded with such intensity of red, blue and yellow the thin walls of water that one expected them to burst and disappear. Instead, the drop was left in a second silver grey once more, and the light now settled upon the flesh of a leaf, revealing the branching thread of fibre beneath the surface, and again it moved on and spread its illumination in the vast green spaces beneath the dome of the heart-shaped and tongue-shaped leaves. (Woolf 1922a:153)
Woolf en Schoeman gebruik ook ’n verskeidenheid ander kleure en kleurskeppings, waaronder: ametis, koffiekleurig, aarbeikleurig, sepiabruin, kanariegeel, die kleur van ’n jong hert, appelliefie, modderbruin, oesterblink, die kleur van sand, snuifgekleur en vele ander. Figuur 6 beeld die ander kleure wat Schoeman in die Ierse dagboeke gebruik deur middel van die heksadesimale kleurkode uit.
Image may be NSFW.
Clik here to view.
Figuur 6. Die ander kleure in Schoeman se Ierland
Die vergelyking van kleure kan nie afgesluit word sonder ’n ondersoek na die gebruik van lig en donker en die aanwending van skadu om die tonele te skilder nie. Woolf het in To the lighthouse (1927:74) geskryf dat waar daar lig is, daar altyd elders ’n skaduwee is. Haar bedoeling hier was filosofies, maar in haar boeke wend sy lig en donker gereeld aan om, saam met kleur, die beelde te skep wat sy aan die leser wou oordra. Schoeman gebruik ook lig, sonlig, maanlig, skadu en donkerte gemeng met kleure om die natuur te skilder – alhoewel hy ook, veral deur die woord donker te gebruik, na Ierland se verlede verwys. In die Ierse dagboeke kleur Schoeman die aarde en die hemel donker in die koue, die berge, heuwels, woude, bome en takke is soms donker en soms vol skaduwees, terwyl die gangetjies, paadjies, straatjies en stegies donker tussen die huisies deur vleg. Donker en duister, saam met die ritme, skep ’n emosionele toneel van ’n koue, donker nag in Ierland:
En dan, in die bome, begin die wind, treurig in die takke. Heelnag sal ons dit hoor, heelnag sal dit waansin oor ons uitgil en sal ons byna die woorde kan hoor wanneer ons wakker word in die donker, in die eensame duister waarin alle bekende dinge oorgegee is aan chaos, en slegs dit oorbly. (Schoeman 1966:47)
Schoeman gebruik ook donker en duister as werkwoorde:
Langsaam kom die aand aangedonker en verduister die dag, [die berge] verloor alle werklikheid en slegs die vaagste aanduiding van hul buitelyne bly nog oor om hul aanwesigheid af te teken teen die lug, die fynste tikkie van die kwas in ’n waterverflandskap, weggesmelt, weggepuur in die blou. (Schoeman 1966:111)
In hierdie gebruik van lig en donker is daar meermale ooreenstemming in die beskrywings van Woolf en Schoeman te bespeur, waaronder die drie voorbeelde in Tabel 4 hier onder. Die wisseling van kleure in die wisseling van lig en donker, die atmosfeer geskep deur lig tussen donker takke heen, en die kleurvolheid van die see in skakerings van ligter en donkerder kleure word deur hierdie voorbeelde uitgebeeld.
Tabel 4. Gebruik van lig en donker in die skep van atmosfeer
Virginia Woolf | Karel Schoeman |
“Going and coming, becoming, signalling, so the light and shadow which now made the wall grey, now the bananas bright yellow, now made the Strand grey, now made the omnibuses bright yellow” (1925:112). | “Ierland lê saamgelap in poele lig en donker [...] wat saamvloei en weg-eb, hier ligter, daar weer donkerder, tint wat met tint wegsmelt, kleur wat uit kleur opgloei en net so skielik weer verlore is” (Schoeman 1966:93). |
“[...] the shadows of the little trees moved very slightly this way and that in the moonlight as the breeze went through them” (1919:30). | “Detail verdof en word uitgewis, buitelyne word onseker, en donker kruip oor die takke aan” (Schoeman 1966:29). |
“[...] and when he came to the sea the water was quite purple and dark blue, and grey and thick, and no longer so green and yellow” (1927:31). | “die spoelende see is vol skadu’s en ligte [...], hier vang dit lig, daar skadu, en van een oomblik na die ander wissel dit oor die hele baai, die kleur van groen en turkoois en silwer en lila en goud, die smarag en blou en rooskleur” (Schoeman 1968:95). |
Schoeman het geskryf dat woorde nie gebruik kan word om Ierland vas te vang nie:
[...] dit glip weg en ontsnap soos die kleure wat oor die land uitspoel, teer blou en silwer wat in die verte glans in die lig en gedurig wissel met die wisseling van son en skadu. Dit is daar, maar wáár is dit? Van oomblik tot oomblik wissel dit, en Ierland drywe weg soos die wolke. (Schoeman 1968:141)
9. Ten slotte
Die doel van hierdie artikel was om die gebruik van kleur in Karel Schoeman se twee Ierse dagboeke, Berig uit die vreemde: ’n Ierse dagboek (1966) en Van ’n verre eiland: ’n Tweede Ierse dagboek (1968), te ondersoek met die doel om te bepaal of die boeke wel slegs “vingeroefeninge” was soos Schoeman in sy outobiografie beweer, en ook om te ondersoek of daar opmerklike ooreenkomste is tussen sy gebruik van kleur en dié van Virginia Woolf, na wie hy verwys as die “grootste enkele literêre invloed” op sy lewe.
Die artikel verskaf ter agtergrond ’n opsomming van die gevorderde leesgewoontes van Schoeman as kind, die invloed wat Katolisisme op hom as jongmens gehad het, sy verblyf in Ierland, en dan ook sy indrukke van Woolf se skryfwerk soos hy dit in sy outobiografie beskryf. Hierna is die invloed van die ontwikkeling van lig en kleur kortliks beskryf, met die fokus op die direkte verbindingslyn vanaf Johann Wolfgang von Goethe na Roger Fry, Marcel Proust en Ludwig Wittgenstein, en moontlik vanaf hulle na Virginia Woolf en deur haar na Karel Schoeman (uitgebeeld in Figuur 2).
Afdeling 8 behels ’n diepgaande ontleding van Schoeman se kleurbeskrywings in die twee Ierse dagboeke, en die kleure en kleurbeskrywings wat hy gebruik, word telkens teenoor Woolf se gebruik van dieselfde kleure geplaas. Op hierdie wyse word die ooreenkomste en verskille uitgelig, maar veral word die wyse waarop kleur in albei se boeke gebruik word om emosie te wek, uitgelig. ’n Objektiewe afleiding is egter moeilik, aangesien daar twee verskille is: die twee Ierse dagboeke is geskryf toe Schoeman jonk en nog relatief onervare was, terwyl Woolf se gebruik van kleur uit ’n saamgestelde bundel van al haar romans oor haar hele lewe geneem is. ’n Meer diepgaande vergelyking – waar albei skrywers se ouderdomme byvoorbeeld gebruik kan word – sal veel moeiliker wees om te onderneem.
Winters (2022:234) verwys na Schoeman se gebruik van kleurwoorde in sy boek Afskeid van Europa (2017), wat die 87ste boek is wat hy geskryf het. Winters noem dat Schoeman in die 205 bladsye van daardie boek, 204 keer na kleur verwys: dit is 0,9 kleurverwysing per bladsy. In die Ierse dagboeke verwys Schoeman 1 068 keer na kleur in die totaal van 280 bladsye, dit is 3,8 kleurverwysings per bladsy. (Winters [2002], in teenstelling met hierdie artikel, het nie woorde wat nie kleurpigmente bevat nie, soos glans, glins, vonkel en waas, in haar telling opgeneem nie. Die vergelyking bevat dus klein verskille.) Was die Ierse dagboeke ’n subjektiewe impressionistiese beskrywing (Minnaar 1984:15) deur ’n opkomende skrywer? Goethe, Proust en Wittgenstein het beklemtoon dat die waarneming van kleur ’n menslike, subjektiewe opinie is (Anscombe 1950:122; Prendergast 2022:3), wat in die konteks van hierdie ondersoek drieledig gesien kan word: Schoeman was jonk, hy was op soek na geestelike sekerheid, en hy was onder die invloed van Woolf se skryfstyl.
Opsommend kan afgelei word dat Schoeman met die skryf van die Ierse dagboeke sy taal- en skryfvermoë getoets het en dat hy dit onder die invloed van Woolf se skryfwerk beoefen het, daarom dan ook die ooreenkomste in die aanwending van die kleurterme en kleurbeskrywings. Schoeman as intelligente, welbelese jong mens het egter moontlik ook, onder die invloed van sy geestelike soeke, Ierland subjektief as idillies ervaar. Sy vermoë om sedert sy vroeë-twintigerjare met woorde te skilder (Winters 2019:39) kan egter nie betwis word nie. Die Ierse dagboeke was dalk “mooiskrywery” (J.M.E. 1966:25), liries en kenmerkend van idealiserende impressionisme (Minnaar 1964:15) en vingeroefeninge (Schoeman 2002:328), maar vir skrywers en opkomende skrywers kan die Ierse dagboeke steeds as gids dien in die gebruik van lig, kleur en skadu om toneel en atmosfeer in ’n roman te skilder.
Bibliografie
Alexander, J. 1974. The venture of form in the novels of Virginia Woolf. Port Washington: Kennikat.
Alexander, P. 2009. Marcel Proust’s search for lost time: a reader’s guide to remembrance of things past. New York: Vintage Books.
Anscombe, G.E.M. (red.). 1950. Ludwig Wittgenstein: remarks on colour. Oxford: Basil Blackwell.
Barnard, C. 1968. Nee, hieraan raak mens moeg gelees. Boekresensie vanaf NALN, bron onbekend.
Blair, L.N. 2010. Virginia Woolf and literary impressionism. https://digitalcommons.tacoma.uw.edu/cgi/viewcontent.cgi?article=1680&context=ias_pub (7 Februarie 2023 geraadpleeg).
Blignault, A. 1969. Karel Schoeman: Van ’n verre eiland. Die Huisgenoot (Boekebylaag). XLII(2485):2–4.
Bressan, A. 2018. Virginia Woolf: the novel as a work of art: an analysis of To the lighthouse and Between the acts. PhD-proefskrif, Università Ca ‘Foscari Venezia. http://dspace.unive.it/bitstream/handle/10579/12534/850746-1213603.pdf?sequence=2 (12 Februarie 2023 geraadpleeg).
Burger, W. 2003. Bolwerk teen tyd en vergetelheid: Karel Schoeman se outobiografiese aantekeninge. Tydskrif vir Nederlands & Afrikaans, 10(2):10–27.
Çakirtaş, Ö. 2014. To the lighthouse: Woolf’s search for the meaning of life through colors. Pamukkale University Journal of Social Sciences Institute, 17:53–60.
Cloete, T.T. 1968. Resensie van Karel Schoeman: Van ’n verre eiland. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 9(2):178–80.
Coetzee, M. en Pieterse, H.J. 2023. ’n Ondersoek na sekere ruimtelike elemente in die “Ierse dagboeke” van Karel Schoeman, met die boek Reise met Schoeman deur Ria Winters as agtergrond. LitNet Akademies, 20(1):91–115. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2023/05/LitNet_Akademies_j20n1b4_Coetzee-Pieterse.pdf.
Dackombe, A.M. 2003. Making thought visible: colour in the writings of Virginia Woolf, Dorothy Richardson, Samuel Beckett and T.S. Eliot. PhD-proefskrif, Queen Mary College, Londen. https://qmro.qmul.ac.uk/xmlui/handle/123456789/28586?show=full (1 Maart 2023 geraadpleeg).
De Botton, A. 1997. How Proust can change your life. New York: Vintage Books.
Die Beeld. 1966. Prosagedig vir die fynproewer. 4 September.
Encyclopedia Britannica. 2023. Virginia Woolf. https://www.britannica.com/biography/Virginia-Woolf (26 Maart 2023 geraadpleeg).
Erickson, G.W. 1991. Wittgenstein’s remarks on colour. Diálogos, 57:113–36.
Fry, R. 1909. An essay in aesthetics. Vision and Design, 1909:16–38.
—. 1919. Modern French Art at the Mansard Galery. The Athenaeum, 8 Augustus:724.
—. 1972. Letters of Roger Fry. Londen: Chatto and Windus.
Gillespie, D.F. 1988. The sisters’ arts: the writing and painting of Virginia Woolf and Vanessa Bell. New York: Syracuse University Press.
Goethe, J.W. 1840. Theory of colours. Vertaal deur C.L. Eastlake. Londen: M.I.T. Uitgewers.
Goodrick, D. 2014. Comparative case studies. Methodological Briefs Impact Evaluation, 9:1–17.
HAT (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal). 2015. Kleur. Kaapstad: Pearson.
Helt, B.S. en M. Detloff (reds.). 2016. Queer Bloomsbury. Edinburgh: University Press.
Heshi, K.N. en H.B. Nasrabadi. 2016. Role of logic and mentality as the basics of Wittgenstein’s picture theory of language and extracting educational principles and methods according to this theory. International Education Studies, 9(7):10–21.
Jewell, E.A. 2000. Virginia Woolf’s life of Roger Fry. The New York Times Books. https://archive.nytimes.com/www.nytimes.com/books/00/12/17/specials/woolf-fry.html (22 Maart 2023 geraadpleeg).
J.M.E. 1966. Resensie. Schoeman by uitstek ’n stemmingskrywer. Dagbreek en Sondagnuus, 25 September.
Joubert, E. 1968. Resensie. Karel Schoeman: Van ’n verre eiland. Sarie Marais, 20(8):77–8.
Kannemeyer, J.C. 1968. Geen reisverhaal in ware sin van die woord. Boekresensie vanaf NALN, bron onbekend.
—. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur II. Johannesburg: Academica.
Li, S. 2023. Color me intrigued: quantifying usage of colors in fiction. https://www.researchgate.net/publication/366984222_Color_Me_Intrigued_Quantifying_Usage_of_Colors_in_Fiction (21 Maart 2023 geraadpleeg).
Lingxiang, K.E. 2015. Virginia Woolf’s letters: writing in the making. PhD-proefskrif, Université Paul-Valéry Montpellier. https://aisberg.unibg.it/bitstream/10446/61857/1/Thesis-KE%20Lingxiang%2020151117-Bergamo.pdf.
Louw, G. 1968. Resensie. Karel Schoeman: Van ’n verre eiland. Die Huisgenoot, 42(2431):77–8.
Louw, W.E.G. 1966. Resensie. Dagboek van jaar as monnik in Ierse klooster. Volksblad, 12 Augustus.
Lyon, M. (red.). 1977. Books and portraits: some further selections from the literary and biographical writings of Virginia Woolf. New York: Harcourt Brace Jovanovich.
Marcus, L. 2011. In the circle of the lens: Woolf’s “Telescope” story, scene-making and memory. Journal of the Short Story in English, 50:1–14.
Meyer, R. 2017. Kleur en kleurpersepsie: ’n oorsig van moderne en antieke beskouinge. Akroterion, 62:1–22.
Minnaar, L.C. 1964. Aspekte van Karel Schoeman se woordwêreld. Tydskrif vir Besondere en Vergelykende Taal- en Literatuurstudie, 5(1):11–21.
Misak, C. 2020. Frank Ramsey: a sheer excess of powers. Oxford: Oxford University Press.
Mitchell, W.J.T. 1994. Picture theory: essays on verbal and visual representation. Londen: The University of Chicago Press.
Monk, R. 1990. Ludwig Wittgenstein. The duty of genius. Londen: Jonathan Cape.
Osborne, H. 1968. Colour concepts of the ancient Greeks. British Journal of Aesthetics, 8(3):269–83.
Pickvance, C.G. 2001. Four varieties of comparative analysis. Journal of Housing and the Built Environment, 16:7–28.
Plourde, J. 2017. Wittgenstein’s picture theory and the distinction between representing and depicting. International Journal of Philosophical Studies, 25(1):1–24.
Pohlhaus, G. en M. Detloff. 2016. Making sense of Wittgenstein’s Bloomsbury and Bloomsbury’s Wittgenstein. In Helt en Detloff (reds.) 2016:210–22.
Prendergast, C. 2022. Proust’s pinks. The Public Domain Review. https://publicdomainreview.org/essay/prousts-pinks (2 April 2023 geraadpleeg).
Rosenbaum, S.P. 1987. Victorian Bloomsbury: the early history of the Bloomsbury Group. Volume 1. Londen: Palgrave MacMillan.
—. 2003. Georgian Bloomsbury: the early history of the Bloomsbury Group, 1910–1914. Volume 1. Londen: Palgrave MacMillan.
—. 2014. The Bloomsbury Group Memoire Club. Londen: Palgrave MacMillan.
Royal, S.A. 2012. Beyond the boundaries in the island of Ireland. Journal of Marine and Island Cultures, 1:91–8.
Ryan, M-L. 2014. Space: the living handbook of narratology. https://www-archiv.fdm.uni-hamburg.de/lhn/printpdf/article/space (3 Oktober 2022 geraadpleeg).
Schoeman, K. 1966. Berig uit die vreemde: ’n Ierse dagboek. Kaapstad: Human & Rousseau.
—. 1968. Van ’n verre eiland: ’n tweede Ierse dagboek. Pretoria: Human & Rousseau.
—. 2002. Die laaste Afrikaanse boek: outobiografiese aantekeninge. Kaapstad: Human & Rousseau.
Steward, J.F. 1982. Impressionism in the early novels of Virginia Woolf. Journal of Modern Literature, 9(2):237–66.
Tietz, T. 2021. Johann Wolfgang von Goethe and his theory of colours. http://scihi.org/goethe-theory-colours (4 April 2023 geraadpleeg).
Viljoen, L. 2004. ’n Brief in ’n bottel: ’n lesing van Karel Schoeman se Die laaste Afrikaanse boek. Tydskrif vir Literatuurwetenskap, 20(1/2):109–31.
Vorobyova, O. 2020. Virginia Woolf’s “Blue & Green” revisited: dimensions of the research space. Studia Linguistica Universitatis Iagellonicae Cracoviensis, 137:327–35.
Walk, K. 2007. Comparative analysis. Realism and sentimentalism in American literature. https://www.k-state.edu/english/eiselei/realsent/comparative.pdf.
Wikimedia Commons. 2023. Goethe se kleurwiel. https://en.wikipedia.org/wiki/Theory_of_Colours#/media/File:Goethe,_Farbenkreis_zur_Symbolisierung_des_menschlichen_Geistes-_und_Seelenlebens,_1809.jpg (28 September 2023 geraadpleeg).
Winters, R. 2019. Kleurgebruik in taal: die palet van Karel Schoeman. LitNet: Seminare en Essays. https://www.litnet.co.za/kleurgebruik-in-taal-die-palet-van-karel-schoeman (18 Oktober 2021 geraadpleeg).
—. 2022. Ludwig Wittgenstein en Karel Schoeman: ’n verkenning van die verbande tussen Wittgenstein se taalfilosofie en Schoeman se woordkuns. LitNet Akademies, 19(2):216–48. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2022/09/LitNet_Akademies_j19n2b8_Winters.pdf.
Woolf, V. 1909. Virginia Woolf’s travel and literary notebook 1906–1909. https://www.bl.uk/collection-items/virginia-woolfs-travel-and-literary-notebook-1906-09 (29 Maart 2023 geraadpleeg).
—. 1915. The voyage out. Londen: Duckworth.
—. 1919. Night and day. Londen: Duckworth.
—. 1922a. Jacob’s room. Londen: Hogarth Press.
—. 1922b. The letters of Virginia Woolf: 1912–1922. Volume 2. Boston: Mariner Books.
—. 1925. Mrs Dalloway. Londen: Hogarth Press.
—. 1927. To the lighthouse. Londen: Hogarth Press.
—. 1928. Orlando. Londen: Hogarth Press.
—. 1931. The waves. New York: Harcourt, Brace and Company.
—. 1937. The years. Londen: Hogarth Press.
—. 1940. Roger Fry: a biography. Londen: Hogarth Press.
—. 1941. Between the acts. Londen: Hogarth Press.
—. 1967. Collected essays II. Londen: Hogarth Press.
Zajonc, A.G. 1975. Goethe’s theory of color and scientific intuition. American Journal of Physics, 44(4):327–33.
Zumhagen-Yekplé, K. 2015. Our toil respite only: Woolf, Diamond, and the difficulty of reality. Modern Language Notes (MLN): Comparative Literature Issue – Practices of the Ordinary, 130(5):1100–29.
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.
The post Karel Schoeman, Virginia Woolf en die kleure in die Ierse dagboeke: ’n vergelykende ondersoek first appeared on LitNet.
The post Karel Schoeman, Virginia Woolf en die kleure in die Ierse dagboeke: ’n vergelykende ondersoek appeared first on LitNet.