|
Opsomming
Die Franse ideëhistorikus Michel Foucault (1926–1984) se verhouding met akademiese geskiedkundiges (of “beroepshistorici” soos hy polemies na hulle verwys het) was altyd gespanne. Die vraag is of sy teenstanders gelyk gehad het in hulle tipering van sy ideëgeskiedenisse as histories arbitrêr en historiografies ongenuanseerd. Foucault se bespreking van Augustinus en die vroeë Middeleeue in een van sy mees onlangse nadoodse publikasies, Histoire de la sexualité 4 (Les aveux de la chair, in 2018 geredigeer deur Frédéric Gros) kan as ’n vars gevallestudie dien om hierdie vraag te beantwoord. ’n Volgende vraag is of Foucault se verwysings na die Middeleeue slegs as analogiese geleiers binne die konteks van sy moderniteitskritiek dien en of hy, na die betuiging van die Franse historikus van die Middeleeue, Jacques le Goff, wel tot ’n verruiming van die bestaande kennis oor die Middeleeue meegewerk en gevolglik ’n bydrae tot Middeleeuse studies as sodanig gelewer het. In antwoord op hierdie twee vrae word Foucault se vertolking van die Middeleeue in Les aveux de la chair op die spoor van die Middeleeuse kultuurhistorikus Pierre Payer se steeds geldige ontleding van Histoire de la sexualité 1 (La volonté de savoir) meer as drie dekades gelede aan die mees grondliggende beginsel vir verantwoordbare geskiedskrywing getoets, naamlik of hy hom aan die tersaaklike historiese bronne gehou het. Die gevolgtrekking is dat alhoewel sy verwysings na die Middeleeue in Les aveux de la chair inderdaad ’n oorwegend analogiese en dus modernkritiese rol gespeel het, Foucault ook met hierdie werk ’n gespesialiseerde uitset tot Middeleeuse studies gelewer het. Daarom moet die hardnekkige aanklag van ’n onderliggende mediëvalisme by Foucault afgewys word.
Trefwoorde: Augustinus (354–430); Michel Foucault (1926–1984); Histoire de la sexualité 4 (Les aveux de la chair); Jacques le Goff (1924–2014); mediëvalisme; Middeleeue; Middeleeuse filosofie; Middeleeuse studies; Pierre Payer (1936–)
Abstract
Foucault, the “professional historians” and the Middle Ages: Augustine in Histoire de la sexualité 4 (Les aveux de la chair) as case study
How do the Middle Ages fit into the French historian of ideas Michel Foucault’s (1926–1984) unconventional history of ideas, archaeologies of knowledge, and genealogies of the subject, and do the various references to the Middle Ages in Foucault’s main texts merely serve as analogical references to his broader critique of modernity? The objective of this article is to answer these two questions by using one of Foucault’s most recent posthumous publications, Histoire de la sexualité 4 (Les aveux de la chair, edited by Frédéric Gros in 2018), as a novel case study.
For Foucault, without modernist prejudice, the Middle Ages form part of the contingent development of Western intellectual history from the Greeks to late modernity. However, because of his emphasis on contingency, references to the Middle Ages do not appear systematically and coherently in his history of ideas. They appear, rather, as analogical (thus between the medieval and the modern) furrows in the diverse contexts of his archaeologies, genealogies and problematisations, whether of madness, sex, discipline, surveillance, psychiatry, public health, population control or the origins of the human sciences, to name but a few areas of interest. The question is whether these references have only this single rhetorical function in Foucault’s works – precisely because his idea-historical analyses were never intended to be read as conventionally historiographical.
On the trail of the influential medieval scholar Pierre Payer’s critical analysis and restrained commendation of Histoire de la sexualité 1 (La volonté de savoir) almost four decades ago, and given the assertion by the eminent Annales historian of the Middle Ages, Jacques le Goff, that Foucault indeed contributed to medieval studies as such, the article holds Foucault’s interpretation of the Middle Ages, specifically regarding his reading of the early medieval Augustine in Les aveux de la chair, close to the historically verifiable sources. Even if Foucault’s references to the Middle Ages in this recent publication (as well as in his previous works) have a predominant analogical, rhetorical and thus modern-critical function, they should still conform to the first criterion of historiography, namely as systematic analyses that can be verified via references to the relevant primary sources. Foucault’s interpretation of Augustine and the early Middle Ages in Les aveux de la chair is hence evaluated in terms of this basic question – whether he kept close to the relevant historical sources as such.
After indicating analyses of Foucault’s interpretation of the Middle Ages as an underdeveloped theme in the current scholarship, based on a comparative reading of several recent introductions, companions and editorial works, the author contextualises Foucault’s interpretation of and references to Augustine and the early Middle Ages in Les aveux de la chair. The conclusion reached is that although Foucault’s references to the Middle Ages in this work again played a crucial analogical and indeed rhetorical role in his critique of modernity, he also expanded the existing body of knowledge on the early Middle Ages, and hence contributed to medieval studies as such. On these grounds the persistent accusation of a latent medievalism in Foucault’s thought is shown to be questionable.
Keywords: Augustine (354–430); Michel Foucault (1926–1984); Histoire de la sexualité 4 (Les aveux de la chair); Jacques le Goff (1924–2014); medieval philosophy; medieval studies; medievalism; Middle Ages; Pierre Payer (1936–)
1. Probleemstelling
1.1 Die aanklag van mediëvalisme
Op 27 Oktober 1982 het die Franse ideëhistorikus Michel Foucault (1926–1984) ’n onkenmerkend siniese uitspraak tydens ’n gaslesing by die Universiteit van Vermont gemaak: “Ek is nie ’n beroepshistorikus nie – niemand is volmaak nie.”1 Indien dit van talle gesiene akademiese geskiedkundiges (of “beroepshistorici”, soos hy sardonies hier en elders2 na hulle verwys het) se mening afgehang het, het Foucault ligvoets met die geskiedenis en geskiedskrywing omgegaan. Hy sou na hierdie dikwels veglustige teenstanders se oortuiging niks meer in sy ontledings aangebied het nie as arbitrêre historiese verwysings wat bloot sy aweregse kritiek van moderniteit moes ondersteun.
Ten opsigte van sy verwysings na die Middeleeue is Foucault gevolglik meermale aanspreeklik gestel vir ’n mediëvalisme, wat verstaan kan word as “post-Middeleeuse, ideologies-reduksionistiese en anakronistiese herkonstruksies van die Middeleeue, waarvolgens die Middeleeue deur die verselfstandiging van een of meer onnoodsaaklike toevallighede met gevolglike karikatuurstelling aangebied word” (Beukes 2021e:2). Indien Foucault se verwysings na die Middeleeue uitsluitlik as analogiese geleiers tot sy moderniteitskritiek gedien het, sou die gevolgtrekking van sodanige mediëvalisme in sy werk moeilik ontkom kon word – waarvoor onder meer die gesiene historikus van die Middeleeuse mistiek, Anne Clark Bartlett (1994:15–8), hom aanspreeklik gehou het.3 In hierdie artikel word egter betoog dat selfs wanneer Bartlett se aanklag mettergaande verfyn word met begrippe soos nostalgie, treurmare en heilstaat,4 dit nie geregverdig is nie – juis omdat Foucault ook ’n gespesialiseerde uitset tot Middeleeuse studies5 gelewer het.
Die vraag is of die beskuldiging van ’n grondliggende mediëvalisme by Foucault nie self gebaseer is op ’n eensydige voorstelling van sy vertolking van die Middeleeue nie. Anders gestel: Dien Foucault se verwysings na die Middeleeue werklik slegs as analogiese geleiers in sy moderniteitskritiek? Ter wille van duidelikheid: Met “analogiese geleiers” word bedoel dat Foucault die Middeleeue indirek met die moderne sou vergelyk het; met ander woorde, dat waar hy ook al na die Middeleeue verwys, hy inderwaarheid (’n kritiek van) die moderne in gedagte het. In die afwesigheid van duidelike antwoorde in die bestaande literatuur op hierdie vraag, is die oogmerk van hierdie ontleding om een van Foucault se mees onlangse6 nadoodse publikasies, Histoire de la sexualité 4: Les aveux de la chair (geredigeer deur Frédéric Gros, 2018; Foucault 2018 en vertaal deur Robert Hurley7 as The history of sexuality, Volume 4: Confessions of the flesh), as ’n vars gevallestudie te gebruik om sy vertolking van die Middeleeue te omlyn.
1.2 Histoire de la sexualité 4: Les aveux de la chair
Die vraag na Foucault se verwysings na die Middeleeue is juis opnuut in die soeklig gebring met die publikasie van hierdie vierde band van sy seksualiteitsgeskiedenis.8 In Les aveux de la chair ondersoek Foucault die latere kerkvaders van die vierde en vyfde eeue se beskouinge oor seks en sluit die werk af met ’n grondige afdeling oor Augustinus van Hippo (Foucault 2018:342–60). In soverre Augustinus (354–430) as die “eerste Middeleeuse filosoof” en die “skarnierdenker tussen die patristiek en die Middeleeue” (Beukes 2020c:I:14–5) beskou kan word, het Foucault se oeuvre met hierdie onlangse toevoeging dus ook tot die vroeë Middeleeue toegetree.9 Met sy lesing van Augustinus en die vroeë Middeleeue in Les aveux de la chair verruim Foucault verwysings na die sentrale Middeleeue in die eerste band van sy seksualiteitsgeskiedenis, Histoire de la sexualité 1: La volonté de savoir, veral ten opsigte van die sakramentalisering van die bieg na afloop van die Vierde Lateraanse Konsilie van 1215 (Foucault 1976:15–33), en na die latere Middeleeue in sy eerste vername werk, Folie et Déraison: Histoire de la folie à l’âge classique (Foucault 1961).10
Gegewe die historiese gapings wat deur die drie vroeër gepubliseerde bande van Histoire de la sexualité en Les aveux de la chair as geredigeerde vierde band gelaat word, met twee tans slegs gedeeltelik geredigeerde manuskripte (La chair et le corps en La croisade des enfants) wat sedert 2013 in die uitgebreide Foucault-argief (NAF 28730) by die Bibliothèque Nationale in Parys gehou word, is Les aveux de la chair hoogs waarskynlik nie die laaste geredigeerde werk in die reeks Histoire de la sexualité nie.11 Daar bestaan ’n realistiese verwagting dat ’n vyfde (waarskynlik dan La chair et le corps) en ’n sesde (dus La croisade des enfants) band die lig sal sien om die gapings tussen die kerkvaders en die vroegmoderne tydperk te vul.12 Onderstaande bespreking hou dus daarmee rekening dat Foucault se publiseerbare nalatenskap redaksioneel verder verruim kan word en dat dit ook verwysings na die Middeleeue sal insluit.13
2. Foucault en die “beroepshistorici”
2.1 Payer se geldige vakkundige vraag
Sonder enige modernistiese vooroordeel vorm die Middeleeue vir Foucault deel van die kontingente en risoomagtige ontwikkeling van die Westerse intellektuele geskiedenis vanaf die Grieke tot diep die moderne in. Op grond van sy nadruk op die histories kontingente verskyn die Middeleeue egter nie sistematies en samehangend in sy ideëhistoriese oeuvre nie. Op die spoor van die invloedryke Middeleeuse kultuurhistorikus Pierre Payer (1985:313–20) se kritiese ontleding van die eerste band, La volonté de savoir, bykans vier dekades gelede, wil hierdie lesing Foucault digby die gedokumenteerde en histories verifieerbare bronne in die vierde band, Les aveux de la chair, hou. Selfs al is dit waar dat verwysings na die Middeleeue in Foucault se tekste ’n oorwegend analogiese, retoriese en dus modernkritiese funksie gehad het, moet daardie verwysings steeds aan die basiese kriterium vir geskiedskrywing getoets kan word – naamlik as sistematiese ontledings wat aan die hand van gedissiplineerde verwysings na die tersaaklike primêre bronne getoets kan word.14
Payer (1985:319–20) het dit nie oor die geldigheid van Foucault se betoog in La volonté de savoir nie. Hy gee trouens in die slot van sy ontleding toe dat Foucault se gevolgtrekking in beginsel korrek was. Seks is inderdaad in 13de-eeuse bieghandleidings bo alle ander moontlike sondes, ondeugde en oortredings geprioritiseer, en daarmee is die openbaarmakende moderne diskoers van seksualiteit van stapel gestuur op grond waarvan beskouinge oor seks in die Middeleeuse Christendom “die seismograaf van Westerse subjektiwiteit geword het” (Foucault 1999:183). Payer se geldige vakkundige vraag is egter juis hóé Foucault hierdie tese histories begrond en die Middeleeuse bronne hanteer het. Ten opsigte van La volonté de savoir as sulks is Payer reg: Foucault se verwysings na sentraal-Middeleeuse bieghandleidings in die betrokke werk grens aan die anekdotiese.
Dit roep gevolglik om die geduld van Foucault se lesers vir ophelderinge in “moontlike opvolgwerke” (Foucault 1976, agterblad). Foucault (1976:19–22; 58–65) se verwysings in La volonté de savoir na konfessionele praktyke in die sentrale Middeleeue bestryk weliswaar slegs 10 bladsye. Op die dekblad van die eerste uitgawe van La volonté de savoir verskyn dan ’n vyfdelige skema wat die beplande titels van sodanige “moontlike opvolgwerke” in die vooruitsig stel, maar wat uiteindelik nooit (of nog nie) verskyn het nie – en ook nie in die uiteindelik gepubliseerde twee opvolgbande Histoire de la sexualité 2: L’usage des plaisirs (Foucault 1984a) en Histoire de la sexualité 3: Le souci de soi (Foucault 1984b) gerealiseer het soos Foucault dit aanvanklik beplan het nie. Die vyf beoogde opvolgwerke was veronderstel om te wees: 1) bovermelde La chair et le corps, 2) La femme, la mère et l’hystérique, 3) bovermelde La croisade des enfants, 4) Population et races, en 5) Les pervers. Dit is opvallend dat verwysings na hierdie vyfdelige projek nie in opvolgende uitgawes of vertalings of op die dekblaaie van L’usage des plaisirs en Le souci de soi herhaal is nie. Met min van hierdie opvolgwerke dus verwesenlik, buiten in tans nog ongeredigeerde manuskripte, het sy lesers min keuse anders as om Foucault se lesings self verder te neem.15
Foucault het reeds vroeg, vanaf ten minste 1957 in aanloop tot die skryf van sy primêre proefskrif vir die doctorat d’état (ingrypend verkort en geredigeer in die só gepubliseerde Folie et Deraison), ’n keuse gemaak waaraan hy hom ook nog tot by Les aveux de la chair gehou het. Hy het naamlik weinig belang by konvensionele geskiedskrywing, maar wil fokus op die wyse waarop oor ’n bepaalde saak binne ’n bepaalde tydsgewrig in die Westerse geskiedenis nagedink is (waarna hy as die episteme van die betrokke tydsgewrig verwys), en watter rol gekonfigureerde of verskuilde magsverhoudinge in dié konteksgelade episteme sou gespeel het. Foucault (1975) stel byvoorbeeld in Surveiller et punir: Naissance de la prison (vertaal as Discipline and punish: The birth of the prison) nie belang in ’n historiese ontleding van die ontwikkeling van die geïnstitusionaliseerde tronkwese nie, maar wil vasstel hoe deur die loop van bepaalde tydsgewrigte in die Westerse geskiedenis oor die verhouding tussen waarneming, dissiplinering en straf nagedink is, hoe dit saamhang met oorwegings soos beheer, normalisering en selfondersoek, en hoe subjekte dit telkens tydgenootlik (vandaar “teenswoordige geskiedenis”) sou verstaan het. Foucault se filosofiese (of eerder dan ideëhistoriese) ondersoeke na kultuurhistoriese bewegings en die kennisvorme wat hulle telkens voortgebring het – die episteme van elkeen – moet egter aan die saaklike historiese grondslae gehou kan word, ongeag die aard, omvang en prima facie-geloofwaardigheid van die betrokke ondersoek. Sy ideëhistoriese stellings moet dus met die beskikbare historiese bewysplase ooreenstem. Teenswoordige geskiedenis bly immers ’n vorm van geskiedenis – en geskiedskrywing – en moet aan daardie vorm getoets kan word.
2.2 “Geskiedenisse van die een of ander aard”
Foucault se vernaamste tekste kan tereg genoem word “geskiedenisse van die een of ander aard”, wat van hom ’n “geskiedskrywer van die een of ander aard” maak.16 Dié frase “een of ander aard” skep inderdaad probleme. Twee jaar na Payer se kritiese ontleding publiseer Megill (1987:117–41) ’n belangrike artikel in die tóé nuwe, en duidelik deur Foucault geïnspireerde, vaktydskrif Journal of the History of Ideas, waarin Foucault se “buitengewoon gespanne” (Farge 1984:42) verhouding met die “beroepshistorici” helder uiteengesit word. Foucault was inderdaad sensitief vir wat hy as skoolmeesterige korreksies op sy historiese verwysings en ontledings beskou het asof konvensionele geskiedskrywing self ’n “volmaakte” (of objektiewe) wetenskap is of kan wees.
Megill toon aan dat daar ernstige verdeeldheid was – en dit is steeds die geval – onder akademiese geskiedkundiges oor presies dit wat Payer uitgewys het, naamlik die (volgens sommige van hulle) opvallende gebreke in Foucault se historiografiese metodologie. Aan die een kant het hoogs gerespekteerde geskiedkundiges en wetenskapsfilosowe – naas Payer (1985:313–20), ook Eric Midelfort (1980:247–65), Peter Sedgwick (1982:125–48), Lawrence Stone (1982:37), Ian Hacking (1979:39–51) en Dominick LaCapra (1989:32–4), om slegs enkeles te noem – ernstige bedenkinge oor Foucault se ideëgeskiedenisse uitgespreek.17
Aan die ander kant het ewe bekwame geskiedkundiges, onder wie Colin Gordon van Oxford (1990:381–96; 2013:84–103) en Frankryk se voorste Middeleeuse historikus van die Annales-skool, Jacques le Goff (1988:93, 200), sowel die metodologiese as inhoudelike in Foucault se ontledings ondersteun. Le Goff voer onder meer aan dat “Foucault die een filosoof is wat hom bewys het as een van die groot geskiedskrywers van ons tyd […] Folie et Déraison is ’n meesterlike werk in historiese antropologie en verskaf ’n steeds ongeëwenaarde model vir interdissiplinêre historiese navorsing” (aangehaal in die Franse oorsigwerk van Laharie 1991:VII]. Gordon en Le Goff se standpunte is – hoewel met voorbehoud – ondersteun deur ’n ander invloedryke Oxoniaan, Andrew Scull.18
2.3 Le Goff: méér as analogie en retoriek
Megill (1990:343) het egter oortuigend betoog dat die verskil tussen Foucault se ideëgeskiedenisse en veral die eerste groep geskiedkundiges se klem op konvensionele geskiedskrywing uiteindelik neerkom op retoriek.19 Dit was presies Foucault se punt: Ook die “beroepshistorici” beoefen onafwendbaar ’n vorm van retoriek wat bloot skuilgaan as saaklik, objektief en wetenskaplik. Hierdie vakkundig elitistiese aansprake, om Foucault se bitter stelling oor die “beroepshistorici” weer by te haal, is nie “meer volmaak” (of minder retories) as sy retoriese aanbod nie. Inteendeel, op grond van Foucault se nadruk op die histories kontingente is niks “volmaak” in geskiedskrywing nie – omdat die geskiedenis dit self nie is of kan wees nie.
Foucault gebruik die geskiedenis inderdaad retories-strategies om die teenswoordige te ontleed. In sy ideëgeskiedenisse vra Foucault dus nie konvensioneel historiografies “hoe dit eintlik was” nie – wie es eigentlich gewesen ist – maar juis hoe dié altyd opnuut afgeleide “hoe dit was” as hermeneuties-analogiese sleutel tot ’n eietydse selfbegrip kan dien. Wat die Middeleeue as sodanig betref, kom Megill, Gordon en Le Goff se afleidings met mekaar daarin ooreen dat Foucault se verwysings na die Middeleeue as analogiese en dus retoriese geleiers verstaan moet word.
Le Goff (in Laharie 1991:VII–VIII) voer egter uitdruklik aan dat dit nie uitsluitlik die geval was nie. Foucault het volgens Le Goff ’n aansienlike bydrae gelewer om die bestaande kennis aangaande die Middeleeue te verruim en het daarmee ’n uitset tot Middeleeuse studies as sodanig gelewer. Aangesien hy nie self ’n register van Foucault se verwysings na die Middeleeue aangebied het nie, is daar net een wyse waarop getoets kan word of Le Goff se standpunt korrek is. Foucault se verwysings moet naamlik gehou word aan ook die saaklike of die konvensioneel historiese bronne en nie slegs sy dikwels onverwyste sinspelinge daarop of idiosinkratiese parafraserings daarvan nie.
’n Ontleding van die verwysings na die Middeleeue in elkeen van Foucault se hooftekste20 sou gevolglik verdienstelik kon wees. Dit is uiteraard nie moontlik binne die skopus van ’n enkele artikel nie. Eerder sou op Megill, Gordon en Le Goff se spoor toegegee kon word dat die Middeleeue wel analogies en dus retories in Foucault se verwysings daarna figureer. By Foucault is daar egter wel, op Le Goff se regverdigbare aandrang, sprake van méér as analogie en retoriek. Les aveux de la chair kan in hierdie opsig as ’n vars gevallestudie dien. Waar Foucault die vroeë-Middeleeuse bronne in hierdie werk gelys of ten minste met erkenning herbewoord het, word dit op die spoor van Payer se navraag sodanig uitgewys; waar hy dit nie gedoen het nie, moet tot die gevolgtrekking gekom word dat daar wel, na Bartlett (1994:10–8) se bovermelde aanklag, ’n grondliggende mediëvalisme by Foucault te bespeur is.
Die teendeel geld egter ook. Indien in aansluiting by Le Goff aangetoon kan word dat Foucault ’n bydrae tot Middeleeuse studies as sodanig gelewer het, is die aanklag van sodanige mediëvalisme ongegrond. Om die altyd-teen-die-grein-Foucault teen sy eie grein te lees – dus deur ’n skerper konvensionele historiografiese lens – mag sowel opbrengste toon as probleme uitwys wat versluierd sou bly indien sy verwysings na die Middeleeue slegs maar as analogies gehandhaaf sou word. Juis omdat Foucault daarop aangedring het om nie bloot as filosoof nie maar as ideëhistorikus gereken te word, gestempel deur die benaming van sy nuutgeskepte (1969, met intreerede op 2 Desember 1970) leerstoel by die Collège de France as “Die Geskiedenis van Idees”, sou die klem nie op idees alleen geplaas moes word nie, maar ook op geskiedenis.
3. Die stand van die tersaaklike navorsing
Foucault se verwysings na en vertolking van die Middeleeue is steeds ’n onderontginde navorsingstema. Hierdie stelling kan begrond word deur middel van ’n vergelykende lesing van die tersaaklike verwysings in die belangrikste21 redaksiewerke, inleidingswerke, oorsigwerke en bloemlesings wat oor die afgelope drie dekades verskyn het. Hierdie soort werke is veral bruikbaar om die mees prominente temas in die navorsing ten tye van die verskyning daarvan te identifiseer. Indien sistematiese verwysings na en besprekings van die Middeleeue daarin voorkom, kan dit dus as ’n gevestigde tema in die sekondêre literatuur bestempel word; indien nie, moet ontledings van verwysings na die Middeleeue in Foucault se oeuvre as ’n onderontwikkelde tema in die bestaande navorsing gekenmerk word.
In Carrette (2000:1213) se teologiese oorsigwerk bestaan twee kort verwysings, beide gerig op die eerste sin van die eerste afdeling in Folie et Déraison, waarna op grond van die afdeling se titel as Stultifera Navis (die “gekkeskip”) verwys kan word: “Aan die einde van die Middeleeue het melaatsheid uit die Westerse wêreld verdwyn” (Foucault 1961:3).22
Falzon, O’Leary en Sawicki (reds. 2013) se omvattende redaksiewerk bevat drie kort verwysings na die historiese konteks van Stultifera Navis.
In die bydraes van Gordon (2013:87–91, weer oor Stultifera Navis), Lynch (2013:167, oor die moderne ontwikkeling van scientia sexualis op grond van sentraal-Middeleeuse biegpraktyke in Folie et Déraison) en Oksala (2013:324) oor die wyse waarop die geregtigheidstaat van die latere Middeleeue deur die administratiewe staat van die 15de en 16de eeue vervang is, en dít sou volgens Foucault dui op die ontwikkeling van ’n “goewermentaliteit”23).
Downing (2008:23–5) se inleidingswerk bevat ’n kort bespreking van Stultifera Navis.
Slegs een bydrae in Gane en Johnson (reds. 1993) se redaksiewerk bevat ’n verwysing na die Middeleeue, in Pasquino (1993:41) se kort bespreking van die implisiete invloed van Le Goff se ondersoek na die Oudfranse begrip travail op Foucault se verstaan van gangbare 13de-eeuse interpretasies van die verhouding tussen arbeid, produktiwiteit en seks.
Gutting (red. 2005) se inleidingswerk bevat twee verwysings, in beide sy eie (Gutting 2005a:52–8) en Whitebook (2005:318) se besprekings van Stultifera Navis. Ook Gutting (2005b:72) se kort inleidingswerk en May (2006:26–7) se oorsigwerk verwys na slegs hierdie eerste afdeling van Folie et Déraison.
Howe (2008) se andersins boeiende ontleding van die toepaslikheid van Foucault se magsbeskouing in die ontleding van eietydse seksuele geweld bevat geen verwysings na die Middeleeue nie.
O’Farrell (2005:5;35;107) se oorsigwerk bevat drie kort verwysings na die Middeleeue, twee na Stultifera Navis, en een na goewermentaliteit.
Oksala (2005:117) se tematiese werk oor Foucault se vryheidsopvatting bevat ’n enkele verwysing na sy verstaan van die maatskaplike status van die hermafrodiet in die latere Middeleeue, synde ’n persoon wat reeds op daardie stadium maatskaplik geag is om oor sowel manlike as vroulike biologiese eienskappe te beskik en wat by mondigwording self oor die eie geslagtelikheid sou kon besluit.
Kelly (2009:116) se inleiding tot Foucault se politieke filosofie bevat een verwysing na die verskil tussen magsuitoefening in die Middeleeue (sogenaamd “brutaal”, openlik en onverbloemd) en die moderne (gekonfigureerd en nouliks herkenbaar as die direkte uitoefening van mag).
McGushin (2007:198–204) bevat ’n aantal kursoriese verwysings na die Middeleeue in Foucault se politieke filosofie.
Morton en Bygrave (reds. 2008) se redaksiewerk bevat ’n aantal verwysings na die Middeleeue in die Collège de France-kursus van 1977–1978.
O’Leary en Falzon (reds. 2010:200) se redaksiewerk bevat een verwysing na tematiese oorvleuelings in Foucault se beskouinge oor seks in sentraal-Middeleeuse en Grieks-Romeinse kontekste, soos opgeneem in La volonté de savoir, L’usage des plaisirs en Le souci de soi.
Oliver (2010:45; 90) se inleidingswerk bevat twee verwysings, een na goewermentaliteit en een na Stultifera Navis.
Simons (1995:39) se handleiding oor Foucault se politieke oorwegings bevat een verwysing na die laat-Middeleeuse bedding van twee belangrike vroegmoderne politieke teorieë, naamlik die begronding van die absolute mag van die staat ter selfbehoud van die staat self, en die oorspronge en veronderstelde noodsaak van waarneming, beheer en polisiëring in die moderne staat.
Smart (2002:10–7, 91) se oorsigwerk bevat ’n deeglike bespreking van Stultifera Navis en ’n kort verwysing na Foucault se lesing van bieghandleidings in La volonté de savoir.
Tanke (2009) se inleidingswerk tot Foucault se kunsfilosofie bevat een verwysing na Foucault (1961:16) se betoog in Folie et Déraison, naamlik dat die reeds gefragmenteerde vroegmoderne deurslaggewend van die verweefde simboliese leefwêreld van die Middeleeue afskeid geneem het.
Taylor (2017:227) se oorsig oor die eerste drie bande van Histoire de la sexualité bevat ’n insiggewende interpretasie van Foucault se ontleding van seksuele begeerte by die Grieke, veral ten opsigte van sy ontleding in L’usage des plaisirs en hoe dit met seksbeskouinge in die vroeë Middeleeue sou saamgehang het.
Tran (2011:95, 112) se teologiese toepassing van Foucault se ideëhistoriese ontledings bevat twee verwysings na die Middeleeue, beide ten opsigte van biegpraktyke in die 13de eeu.
Jones en Porter (reds. 1994) se redaksiewerk, Mills (2003) se inleidingswerk, Pearson (red. 2001) se bundel van ses lesings by die Universiteit van Berkeley in 1983, Prado (2000) se inleidingswerk en Taylor (red. 2011) se redaksiewerk bevat geen sistematiese of selfs kursoriese verwysings na die Middeleeue nie.
Nie een van die 15 bydraes in ’n onlangse redaksiewerk (The late Foucault, Faustino en Ferraro reds. 2020), bevat ’n onderafdeling waarin ’n bestekopname van Foucault se verwysings na en vertolking van die Middeleeue verskaf word nie.
In hierdie opsomming van die tersaaklike oorsigliteratuur is ’n tweedelige patroon te bespeur. Eerstens is die besprekings van Foucault se verwysings na die Middeleeue daarin beperk en verwys dit, op enkele uitsonderinge na, slegs na Stultifera Navis in Folie et Déraison, sy lesing van bieghandleidings in La volonté de savoir en die ontwikkeling van goewermentaliteit in die Collège de France-kursusse van 1977–1978 en 1978–1979. Tweedens word Foucault se hantering van die Middeleeuse bronne nie uitdruklik ondersoek nie. Daarom sou Foucault se verwysings na die Middeleeue as ’n nog onderontwikkelde tema in die bestaande navorsing bestempel moet word en sou sy hantering van die Middeleeuse bronne met gebruikmaking van een van sy jongste publikasies nuut verken kon word.
4. Foucault se vertolking van Augustinus en die vroeë Middeleeue in Les aveux de la chair
4.1 Die drie dele van Les aveux de la chair
Les aveux de la chair (wat op die Nederlandse spoor vertaal kan word as Die bekentenisse van die vlees) beslaan 426 bladsye in drie dele, met vier ongetitelde aanhangsels, ’n uitgebreide stel eindnotas en ’n bibliografie. Deel III handel uitdruklik oor die “vlees” en hoe Augustinus die seksuele begeerte vir en uiteindelik orgasmiese belewenis met ’n ander wellustige subjek verplaas het na die selfondersoekende en uiteindelik bekennende subjek; dus, as ’n inwaartse beweging vanaf die Ander na die Self. In L’usage des plaisirs en Le souci de soi verskyn slegs terloopse verwysings na Augustinus,24 terwyl die laaste deel van Les aveux de la chair breedvoerig op dié laaste Westerse kerkvader fokus. Deel I (La formation d’une expérience nouvelle) bestaan uit vier hoofstukke. In die eerste hoofstuk word seksuele voorskrifte en gebruike binne vroeë Christelike kloostergemeenskappe en gewone gesinne bekendgestel, met verwysing na ta aphrodisia (“die werke van Afrodite”, soos vir die Grieke ook Foucault se onderspeelde voorkeurbegrip vir seks) en aangedui as huweliksaangeleenthede in die breë, waaronder die ernsname van Augustinus se voorskrif tot ’n uitdruklike voortplantingsopset en die afwysing van seksuele genoegdoening juis binne die huwelik. Die opvolgende drie hoofstukke in Deel I handel oor die drie samehangende vorme van belydenis in die vroeë Christendom (die doop [geloofsbelydenis], skuldbelydenis, en die bieg [as die kerklike bedding van die bekentenisse van die vlees]). Deel II handel oor die maagdelike lewe (être vierge), wat insluit die kuns van selibate saamleef in kloosters, individuele bekentenisse onder die toesig van ’n biegvader en die verwerwing van selfkennis deur middel van die selibaat as ’n positiewe gestalte van seksuele onthouding.
Deel III van Les aveux de la chair is vir die doeleindes van hierdie ondersoek egter die belangrikste, aangesien Augustinus as sodanig hier onder die loep geneem word. Hierdie deel fokus op die getroude lewe (être marié), met betrekking tot die maatreëls vir en verantwoordbare roetinering van seks juis binne die huwelik. Die titels van die drie hoofstukke in Deel III dui Augustinus se tersaaklikheid vir hierdie laaste deel van die werk duidelik aan: Le devoir des époux (die plig van eggenote), Le bien et les biens du mariage (die goeie en goeie dinge van die huwelik) en La libidinisation du sexe (die libidinalisering van seks).25 Geen ander vroeë-Middeleeuse denker, soos verwoord in hierdie laaste afdeling van Les aveux de la chair, was vir Foucault belangriker in die ordening van seks binne die huwelik en vir ’n herdefiniëring van die mens as ’n subjek van seksuele begeerte as juis Augustinus nie. Hierdie oorweging – die samehang tussen die huwelik en seks – het na Foucault se lesing van Augustinus se seksbeskouing ’n ongeëwenaarde invloed op die Westerse Christendom uitgeoefen, en lê syns insiens steeds ten grondslag van moderne Westerse opvattinge oor seksuele identiteit. Daarmee word ’n duidelike analogie tussen die vroeë-Middeleeuse Augustinus en moderne eksponente soos Freud opgestel.
4.2 Seksuele begeerte en die vrygeskepte wil
Foucault se weergawe van die seksbeskouinge van die kerkvaders in die oorgang vanaf die patristiek na die vroeë Middeleeue sluit direk aan by sy kritiese oorsig van psigoanalise (met uitdruklike verwysing na juis Freud – sien Cook 2014:148–61) in La volonté de savoir. Ook in Les aveux de la chair word Augustinus se verstaan van seksuele begeerte verwoord as nie bloot ’n natuurlike aandrif nie, maar proto-Freudiaans opgestel as die gevolg van juis iets anders as seks, in hierdie geval, spesifieke Christelike vorme van magsuitoefening en daaropvolgende bekentenisse in die pastoraat.
Die gevalle mens is na Foucault se lesing van Augustinus nie in staat om die fisieke oorweldiging van seksuele begeerte onder beheer te bring nie. Seks sou volgens Augustinus (1955:47–9; hoofstuk XXIII van boek XI in De civitate Dei) hipoteties gesproke wel in die Tuin van Eden (na die beskrywing in Genesis 3) kon voorgekom het, maar sou voor die sondeval gekenmerk moes gewees het deur die afwesigheid van wellus (die drifte of plaisirs) en die ondergeskiktheid van seksuele begeerte aan die vrygeskepte wil. Dit is eers na die huiwerige proe van die vleesvrug en die wegkeer van God dat seks ’n sondige karakter verkry het, omdat die wil eers daarná deur seksuele begeerte oorheers sou word. Dit is waarom die man en vrou eers dan skaamte sou ervaar het aan hulle eie en die ander se naaktheid. Die man en vrou was nie skielik skaam vir hulle naakte liggame nie, maar verdwaas gelaat deur die ontdekking van die skynbare onwillekeurigheid van hulle seksuele drifte (fecit adtentos redditque confuses). Dit was dus nie die naaktheid (nou “skaamdele”) wat met blare bedek moes word nie, maar die wilde en juis gewilde begeerte.
Met die verbanning van die mens uit die Tuin van Eden kan aangeneem word dat minstens een insig wat verwerf is deur van die boom van kennis te eet, met verwysing na daardie eerste byt van die verbode vleesvrug, seksuele kennis en die opwekking van seksuele begeerte was. Die sondeval en verbanning uit die tuin het egter nie alleen in daardie eerste seksuele smaak en gevolglike libidinale aptyt gevestig nie, maar juis in die ervaring van eenwording met ’n ander sonder God, waardeur ironies ’n ervaring van mundane dualiteit opgestel is en die mens sigself as Self en as onderskeibaar van die Ander ervaar het – en juis dít was die sonde. Die sonde was om intiem een te word met ’n ander as God, naamlik met ’n ander mens. Seksuele kennis beteken, na Foucault (2018:344–70) se lesing van Augustinus se weergawe van Genesis 3, om midde seksuele eenwording bewus te wees van die ander as Ander en een te wil word met daardie Ander, juis om daarmee die Self dialekties te bevestig – sonder God. Die mens ontdek die Self in die eenwording met ’n ander mens. Dít is wat God klaarblyklik sou gehaat het en wat tot die sondeval sou gelei het: hierdie gesentreerde subjek, die Self, die selfontdekte en selfvervulde mens.
Besonder belangrik na Foucault se lesing van Augustinus is dat die vrygeskepte mens op sterkte van die vrye wil voor die sondeval nie deur die epileptiese kwaliteit van orgasme oorval sou kon word nie. Selfbemeestering en selfbeheer sou in die Tuin van Eden die natuurlike staat van alle dinge menslik moes wees. Ná die eerste byt van die vleesvrug tree beheerverlies ineens in en word die onwillekeurige stupor van orgasme ’n vorm van opstand teen die eens soewereine wil – en ’n teken van versetlikheid jeens God. Mens en medeganger verdien daarom God se straf -die verjaging uit die paradys en ’n wegval uit die paradyslike toestand van natuurlike selfbemeestering. Deur uit vrye keuse in verset teen die absolute wil van God te kom, het die mens die eie en onafhanklike wil bevestig ten koste van die ondergeskiktheid van die eie wil aan die absolute wil van God. Die koste verbonde aan hierdie verset teen die absolute wil was daarom self absoluut, naamlik die verlies aan selfbemeestering deur die eens vrygeskepte en soewereine wil. Die mens wou ’n “outonome wil bekom, maar het die ontologiese basis van daardie wil verloor” (Foucault 2018:335).
Hiermee word vir Augustinus, na Foucault se lesing, ’n dringende problematisering van die seksuele moraal aangekondig. Ereksie is sowel die mees sigbare teken van die onvoorspelbaarheid van seksuele opwekking as wat dit die beeld van die mens in opstand teen God verteenwoordig. Die uitdagende aard van die opstandige erekte wil is die gevolg van die uitdaging van God self (sien ook Foucault 1981:183). Die onstuitbare wil tot seks getuig trouens daarvan dat die mens altyd steeds en by voorbaat in verset teen God is (Foucault 2018:336). Hoewel die wil tot seks tydelik onderdruk kan word, is dit altyd reeds weer teenwoordig en oorweldigend. Vir Augustinus kon die Hellenisties-Romeinse estetisering van viriliteit deur selfbemeestering nie langer binne die konteks van sy sondeleer gehandhaaf word nie. Trouens, selfbemeestering oor seksuele begeerte is na Augustinus se sondeleer vir Christene ’n ontologiese onmoontlikheid en seksuele begeerte nooit onskuldig nie – en daarom is seks vir Augustinus juis ’n filosofiese probleem. Daarom verskuif hy die probleem uitdruklik weg van die verhoudingsmatige aard van seks na die enkeling, wat rekenskap moet gee van die spanning tussen die wil en onwillekeurige liggaamlike reaksies. Die aktiewe selfbemeestering van die drifte in die Hellenisties-Romeinse kontekste word dus by Augustinus finaal en beslissend vervang met ’n passiewe selfondersoek daarvan (Foucault 2018:336). Wie kan Freud en psigoanalise nie tematies duidelik hierin terugvind nie? Die analogie tussen die Middeleeue en die moderne is tasbaar.
4.3 ’n Voortsetting van die oudheid na die vroeë Middeleeue
Foucault (2018:342–50) voer in sy unieke ontleding aan dat Augustinus se seksbeskouing nie ’n oorspronklike ontwikkeling in die Westerse ideëgeskiedenis aandui nie, maar wesenlik ’n voortsetting van seksuele opvattinge in die Grieks-Romeinse oudheid behels. Augustinus se seksopvatting is volgens Foucault in hierdie opsig dus steeds heidens. Die seksuele handeling beoog volgens dié heidense (dus Grieks-Romeinse) opvatting nie seksuele plesier as sodanig nie, maar die voortgaande vorming van die subjek. Hieraan werk Augustinus volgens Foucault op bedrewe wyse mee.
Die vorming van die subjek is in die patristiek vanaf die middel van die vierde eeu binne seksuele konteks toenemend gekoppel aan die begrip voortplantingsopset, wat om hierdie rede vir Augustinus as ’n laat vierde- en vroeë vyfde-eeuse denker van wesenlike belang was. Augustinus handhaaf die klassieke Romeinse opvatting dat die opset van ’n handeling die morele (en juridiese) inhoud daarvan bepaal, ongeag die gevolge van die handeling. Die begrip opset (intentio) bevat twee komponente, naamlik intellektuele handeling (“om te weet”) en wilshandeling (“om te wil”). Augustinus bring volgens Foucault wel ’n duidelike verandering tot dié Romeinse erfenis aan, naamlik dat, vanuit sy epistemologiese prioritisering van die wil bo die intellek en geheue (die drie Augustynse fakulteite van die siel), seksuele begeerte verhef word tot die “vorm van die wil”, dit wat die wil wil, oftewel “dit wat van die siel ’n subjek maak” (Foucault 2018:344). Dit is dus nie langer die natuurlike en vrye (intellektuele) gebruik van die drifte soos in die heidense oudheid nie, maar die wilsmatige uitwoed van die drifte wat ’n probleem in die vroeë Middeleeue word. Augustinus vra dus nie soos die kloostermonnike van sy tyd of die subjek deur seksuele begeerte beweeg word tot ’n bepaalde gedagte, droom of handeling wat intellektueel ondersoek en beken moet word nie. Hy het eweneens geen belang by ’n etiese ondersoek na die vermoë van die subjek om ’n begeerte te bemeester wat soms wel problematies mag wees, maar ten diepste natuurlik en onskuldig is nie. Augustinus wil eenvoudig vasstel wat die innerlike binnewerkinge of geneigdhede behels waaruit die begeerte voortkom. Wat is die opset van die begeerte? Wat wil die begeerte? Dít is volgens Foucault (2018:325) Augustinus se onderskeidende vraag.
5. Foucault se bronnehantering in Deel III (2 en 3) van Les aveux de la chair
5.1 Verwysingsmetode en literatuurskopus
Soos in al sy ander vernaamste tekste dien eindnotas as Foucault se voorkeurmetode vir verwysing in Les aveux de la chair. Gevolglik sal die noukeurige stel eindnotas, ingevoeg tussen die vier aanhangsels en die bibliografie, die basis van onderstaande ontleding vorm.
Vir sy lesing van Augustinus se primêre tekste gebruik Foucault sowel die tekskritiese Jesuïtiese uitgawe in Frans, Sources Chrétiennes, as die verouderde en moeilik leesbare Migne-uitgawes Patrologia Latina uit die 19de eeu. Opvallend gebruik hy vir sy lesings van die Latynse tekste nie die verbeterde en bygewerkte uitgawes van Patrologia Latina in Corpus Scriptorum Ecclesiasticorum Latinorum en Corpus Christianorum Series Latina nie.26
5.2 Ses verwysings na Augustinus in Deel I en Deel II
In aanloop tot Deel III van Les aveux de la chair verskyn slegs ses kort verwysings na Augustinus:
1) Deel I (2), eindnota 48, wat handel oor volwassene-doop as ’n vorm van waarheidsbekentenis (met verwysing na Preek 216 in Ad competentes XI).
2) Deel I (3), eindnota 88, wat handel oor martelaarskap as ’n vorm van selfreinigende parrhesia (“om die waarheid te praat, ongeag enigiets”). Foucault herverwoord Augustinus se kommentaar oor die tweede deel van Psalm 101:3 gevolglik korrek as “Die martelare is vermoor, maar wie anders is die kinders van dié vermoordes as ons […] Ek sal aan U ’n martelaar se offer skenk as ’n lofprysing [...] Die martelaar, sonder om te praat en bloot deur selfprysgewend te handel, laat die waarheid blyk dat die offer van die eie lewe lei tot die ewige lewe […] In die komplekse ekonomie van die martelaar se gedrag word ’n waarheid bevestig waarin die waarde van die lewe en die dood omgekeer word”.
3) Deel II (1), eindnota 29, wat handel oor Augustinus se verstaan van die waarde van die selibaat en maagdelikheid, synde nie ’n plig wat voortkom uit wetsgehoorsaamheid nie, maar ’n “eed wat voortspruit uit liefdesdiens” (met verwysing De continentia IV:4).
4) Deel II (1), eindnota 35, wat handel oor Augustinus se klem op die noodsaaklike onderskeiding van die geslagte as “nie dualistiese duiwelswerk nie, maar deur God gewil” (met verwysing na De continentia IX:23).
5) Deel II (2), eindnota 41, waar Foucault Augustinus se standpunt dat nie seks nie, maar begeerte die eerste of oersonde was (en juis daarom as ’n hoogtepunt aangebied word in die laaste en tiende gebod van die Wet), korrek weergee en dit ook geslaagd met Johannes Chrusostomus (c. 347–407) en Hiëronimus (d. 420) se soortgelyke standpunte in verband bring.
6) Deel II (3), eindnota 87, wat handel oor die oorsprong van seksuele begeerte as “visueel”, ’n “manier van kyk” en ’n “perverse oog” (met verwysing na Sermones 56:12).
5.3 Foucault se ontginning van die primêre bronne in Deel III (2 en 3)
Alhoewel Augustinus ongetwyfeld ook ter sake is vir Deel III (1, Le devoir des époux), fokus Foucault in hierdie gedeelte eerder op Chrusostomus se standpunte oor die huwelik (sien De Wet 2020:1–38). Deel III (2, Le bien et les biens du mariage) en III (3, La libidinisation du sexe) handel egter uitsluitlik oor Augustinus. Vir sy ontleding gebruik Foucault hoofsaaklik vyf primêre tekste uit bogenoemde Patrologia Latina (40), geredigeer deur J.-Paul Migne: De bono coniugali (Augustinus 1845a), De bono viduitatis (Augustinus 1845b), De sancta virginitate (Augustinus 1845c), De conjugiis adulterinis (Augustinus 1845d) en De nuptiis et concupiscentia (Augustinus 1865).27
Deel III (2)
1) Eindnota 1, De bono viduitatis 414, De conjugiis adulterinis 419: Hier hanteer Augustinus pastorale vrae aangaande seks binne die huwelik, veral ten opsigte van die Pauliniese huweliksplig in 1 Korintiërs 7:3–5. Die verantwoording van seksuele begeerte binne die huwelik28 is na Foucault se lesing van Augustinus ’n uitdruklike voorwaarde vir die ontwikkeling van die huwelik as ’n vorm van “kunstige saamwees”. Dít dui vir Foucault op ’n voortsetting van selfondersoek (en die uiteindelike rol van bekentenis) in die vorming van die subjek. Die monnik se konstante selfondersoek word trouens verleng na en verdiep binne die huwelik. Soveel as wat die getroude lewe ’n lewe saam met ’n Ander is, staan die verhouding met die Self voorop, juis onder die voortdurende aanslag van seksuele begeerte. Die verantwoording van seks binne die huwelik is daarom vir Augustinus ’n veel groter uitdaging as enige vorm van seks buite die huwelik.29 Hierby word voortplantingsopset30 deur Augustinus as ’n algemene voorwaarde vir seks binne die huwelik gestel, waarmee, na Foucault se lesing, ’n herdefiniëring van die mens as ’n subjek van seksuele begeerte aangebied word. Die enigste rede waarom Augustinus uitdruklik van die apostoliese oorlewering afwyk, is, soos Foucault (2018:342–50) aanvoer, ’n ideëhistoriese ontwikkeling na ’n alternatiewe subjektiwiteit waarin seksuele begeerte as die “vorm van die wil” sou kon figureer. Dit is eers vanaf Augustinus se regulering van seks binne die huwelik dat die subjek (man of vrou) ’n subjek van begeerte kon word, en nie langer bloot ’n juridiese subjek waarin ’n objektiewe reg en verpligting (die Pauliniese huweliksplig) opgeneem is nie.31
2) Eindnota 2, De sancta virginitate 19, rakende Augustinus se opvatting dat die huwelik en maagdelikheid mekaar nie noodwendig uitsluit nie – beide is “goed”, maar laasgenoemde is eenvoudig ’n “hoër goed”. Augustinus het seks as ’n natuurlike, opbouende en eg menslike ervaring uitdruklik verwerp – met die nadruk dat seksuele bevrediging van welke aard ook al nie met ’n volhoubare morele lewe te versoen is nie. Daarby voeg Augustinus die uitdruklike opset tot voortplanting vir die wettiging van seks (vir hom per definisie slegs binne die huwelik). Trouens, in Soliloquia skryf Augustinus (1986b:1.40): Nihil esse sentio quod magis ex arce dejiciat animam virilem quam blandimenta foeminea corporumque ille contactus (“Niks onkragtig die manlike gees meer as die aantrekkingskrag van vroue en die aanraking van hulle liggame nie”). Tog moet hierdie soort afwysings by Augustinus versigtig gekontekstualiseer word. Die opvolgende eindnotas getuig dat Foucault sodanige nuansering wel duidelik vermag het.
3) Eindnotas 3 tot 13, 1 Korintiërs 7:27, De sancta virginitate 18, 15, 13, 14, 46, Contra Julianum III, De bono viduitatis 23 en Quaestiones in Evangelium secundum Matthaeum I en IX: Hier gaan dit weer oor die nie-uitsluitende ongelykwaardigheid van die huwelik en maagdelikheid. Foucault se dinamiese vertaling van ses lang aanhalings uit hierdie tekste en die koppeling daarvan met die Pauliniese teks kan as gelykmatig bestempel word. In die hoofteks bed hy die aanhalings binne die raamwerk van sy betoog dat die regulering van seks binne die huwelik die logiese gevolg is van Augustinus se prioritisering van maagdelikheid en die ten minste uitdruklike onthouding van “onnodige” seks binne die huwelik, wat juis die rede is waarom die (onontkombare) voorkoms van seks binne die huwelik behoorlik gereguleer moet word deur die beroep op voortplantingsopset.32
4) Eindnotas 14 en 15, De bono viduitatis 8–9 en preke 138, 1888, 191, 192, 195, 213: Foucault merk hier ’n verhoogde wending by Augustinus aan – nie alleen is ’n vorm van gereguleerde maagdelikheid binne die huwelik moontlik nie, maar is sodanige maagdelikheid binne die huwelik verhewe bo enige vorm van maagdelikheid buite die huwelik.
5) Eindnotas 16 tot 32, De sancta virginitate 2 tot 8: ’n Grondige teksontleding word verskaf vir die verhouding tussen maagdelikheid enersyds, en vrugbaarheid, die huwelik en voortplanting andersyds (met Christus, Maria, en die kerk as moeder as prominente diskursiewe geleiers – al drie is “maagde”, maar “bring voort” in die geestelike sin). Presies dít is wat Augustinus in gedagte het – trouens, daar bestaan vir hom ’n outentieke soort maagdelikheid wat nie los van die huwelik te bedink is nie.
6) Eindnotas 33 tot 38, De Genesi contra Manicheos I 19 (30), II 7 (8), II 11 (15), De catechizandis rudibus XVIII (29) en Gregorius van Nyssa (335 – c. 394) se De hominis opificio XVII: Augustinus vind hier aansluiting by Gregorius dat nie seks nie, maar die begeerte na ongebreidelde plesier, in welke gedaante ook al, die oersonde sou wees.
7) Eindnotas 41 tot 44, De Genesi ad Litteram IX (5, 9, 14, 15) en De civitate Dei XIV (1, 22): Augustinus se verduideliking waarom seks voor die sondeval nie in Genesis vermeld word nie, naamlik dat dit banaal sou wees om enige iets uit te sonder wat voor die sondeval onder die soewereiniteit van die vrygeskepte wil sou gestaan het (en God dit daarom nie nodig geag het om ’n uitdruklike opdrag tot voortplanting uit te reik nie).
8) Eindnotas 46 en 48 (47 is ’n onvoltooide inskrywing), De nuptiis et concupiscentia I (1, 21, 23), II (5, 14) en Contra Julianum III (46): Hier hanteer Foucault Augustinus se betoog dat seksuele eenwording in die paradys slegs voortplanting as oogmerk sou kon gehad het.
9) Eindnotas 49 tot 95 (64 is ’n onvoltooide inskrywing), De bono coniugali XXIV (32), VI, III, IX, VIII, XVII, XIX, VII, XX, met een bykomende verwysing (eindnota 93) na Retractationes II (22): Hierdie wye reeks eindnotas, met vele aanhalings en dinamiese vertalings uit Latyn, ontleed die verskillende registers van Augustinus se betoë in De bono coniugali ten opsigte van die wesenlike rol van getrouheid (fides) binne die huwelik (onder meer: ordo caritas beteken dat mense “trou omdat hulle getrou is”; Cui fidei tantum juris tribuit Apostolus ut eam potestatem appellaret – “Die apostel skryf so ’n hoë mate van die regvaardigheid van huwelikstrou toe dat hy dit ’n [Goddelike] vermoë noem”), die skynbaar universele afwysing van owerspel (met inagname daarvan dat seks binne die huwelik sonder voortplantingsopset inderdaad as ’n vorm van owerspel bestempel behoort te word), en die huwelik as sacramentum (nog nie die “sakrament van die huwelik” soos eers later in die sentrale Middeleeue geformuleer nie, maar ontleen aan die ordening van ’n priester [usque adeo foedus illud initum nuptiale cujusdam sacramenti res est, ut nec ipsa separatione irritum fiat, “die huwelikskontrak is so heilig dat selfs die vervreemding daarvan dit nie kan ophef nie”]). Eindnotas 49 tot 95 kan saamgevat word in ’n uitspraak wat Augustinus (De bono coniugali XI [12]) in die Stoïsynse seksuele moraal terugvind: “Huwelikstrou beteken kuisheid op grond van die opset tot voortplanting.” Dus, volgens Augustinus, na Foucault: Die huwelik is heilig omdat dit gebaseer is op die aanname van die voorspelbare, alledaagse getrouheid van die ander, oftewel “kunstige saamwees”, ook ten opsigte van seks binne die huwelik. ’n Getroude persoon behoort daarom nie te wonder oor wat die ander heimlik dink tydens seks nie – wat die ander ook al dink, is kuis, omdat die gedeelde opset tot voortplanting self kuis is.
Deel III (3)
1) Eindnota 1, De bono coniugali X (11): Die onvoorsiene maar logiese gevolg van Augustinus se poging om seks binne die huwelik met maagdelikheid en kuisheid in verband te bring, is dat die wil juis benadruk word en seksuele begeerte (anders as seksuele plig) as die vorm van die wil funksioneer.
2) Eindnotas 2, 12–15, 25, 30–35, 38, De civitate Dei XIV (13–15, 16, 18, 23–24), XIII (15): Augustinus vra hom af of dit moontlik sou wees om hierdie wellustige, onwillekeurige en prikkelbare wil steeds ten goede te kan gebruik. Hy antwoord bevestigend met verwysing na die regulering van seksuele “woede” (of meer letterlik vertaal, “dierlikheid”, bestialis motus). Anders as seks vanuit pligpleging kan seks wat gewil word, nie anders as om ten minste tydens die orgasme van een of beide genote met ’n vorm van krampagtige aggressie en uitwoeding voltrek te word nie (en die wil in daardie stuporkonteks duidelik en onstuitbaar wil). In De civitate Dei XIV (16) vind Augustinus regstreeks aansluiting by die (dialektiese) Griekse diagnose van orgasme as ’n “fisieke geestesversteuring”, soortgelyk aan die destydse verstaan van ’n epileptiese aanval, waarin ’n voortydige ervaring van die dood self opgesluit is: la petite mort, inderdaad. Seks – en veral orgasme – is dus psigologies aftakelend, liggaamlik beskadigend en moreel gevaarlik. Daarom behoort ’n gereguleerde domein vir die ten goede uitwoeding van hierdie enigmatiese woede aangedui te word. Augustinus vind dié domein van ’n woede ten goede juis in die alledaagsheid van die getroude lewe, waarby hy die uitdruklike opset tot voortplanting voeg. Binne hierdie gereguleerde domein verskyn die subjek verantwoord as ’n subjek van begeerte en word die regspersoonlikheid daarvan verfyn, in terme waarvan seksuele handelinge as goed of sleg (of selfs wettig en onwettig) aangedui kan word binne ’n konteks van intersubjektiwiteit. Met ander woorde, die getroude lewe verskaf ’n ruimte waarbinne seksuele begeerte as die vorm van die wil van ’n uitdruklike opset – voortplanting – binne die konteks van die beheersde alledaagse voorsien kan word.
3) Eindnotas 3, 4, 6–8, 11, 17–18, 20, 28–29, 43–46, 48–60, Contra Julianum III (16, 23, 26, 42), IV (62, 72), V (23, 42), VI (15, 53–56, 60, 62), De bono coniugali X (11), De Genesi ad Litteram IX (10, 18), XI (31, 41, 42) en De nuptiis et concupiscentia I (6–9, 23, 25–28, 32, 37), II (31, 35, 53, 59): Augustinus noem die “drang tot beweging” (De civitate Dei XIV 24) in die geslagsdele libido, wat in die oorspronklike Romeinse konteks eenvoudig “verlange” beteken het, maar deur hom van die uitdruklike lading van “die geneigdheid tot seksuele begeerte” voorsien word. Libido dui dus op ’n spontane en onwillekeurige verlange na ongereguleerde vorme van seksuele plesier – vir Augustinus dié merkteken van die gevalle mens. Seksuele begeerte as libido is nie (soos by die Grieke en Romeine) ’n uitwendige werklikheid wat deur die wil onder beheer gebring moet word nie – maar ’n inwendige werklikheid, naamlik die hoogste uitdrukking van die wil self. Seksuele begeerte is ook nie die uitdrukking van ’n onbelangrike, natuurlike en onskuldige drang wat deur die wil onderwerp kan word nie, maar juis die gevolg van die wil, dit wat die wil wil (libido sui juris), of die vorm van die wil, of selfs die wil teen die wil. Dit was immers hierdie wil wat onstuitbaar genoeg was om teen selfs God in opstand te kom (inoboedentia reciproca). Seksuele begeerte is volgens Augustinus dus ’n onwillekeurigheid binne die wil, ’n swakheid van die wil waarsonder die wil nie in staat is om te wil nie. Waar seksuele begeerte en die wil by die monnike soos Johannes Cassianus (366–435) twee onderskeibare kragte verteenwoordig, is libido by Augustinus wesenlik en onvervreembaar deel van die wil, synde juis die vorm van die wil. Deur seksuele begeerte as die vorm van die wil te kenmerk, seksualiseer Augustinus die alledaagse: Alles wat die subjek andersins begeer (of “wil”), sou op die een of ander wyse moet saamhang met seksuele begeerte as die vorm van die wil. Seksuele begeerte is daarom ook die hoogste uitdrukking van die Augustynse leer oor die erfsonde: Wie wil weet wat sonde is, hoef net te kyk na die wyse waarop seksuele begeerte oral en onbeheerst wil. Seksuele begeerte is dus ’n toestand. In hierdie sin konstitueer seks, seksuele begeerte en seksuele voorkeure die subjek se selfbegrip. Met hierdie gevolgtrekking tref ons die gevestigde leitmotief in Foucault se seksualiteitsgeskiedenis aan: Sedert die vroeë Middeleeue tot diep in die moderne was seks dié seismograaf van Westerse subjektiwiteit. Hoewel Foucault nie uitdruklik na Freud in Les aveux de la chair verwys nie, kan hierby opgemerk word dat Freud se geniale bydrae daarin vestig dat hy hierdie ideëhistoriese gegewe herken en teoreties afgerond het.
5.5 Foucault se gebruikmaking van die sekondêre literatuur in Deel III
Foucault gebruik ter toeligting van sy ontleding slegs drie sekondêre tekste in Deel III:
1) III (1), eindnotas 2 en 3, Daniélou en Marrou (1963:268–82, 362–4) se Nouvelle histoire de l’Église, ten opsigte van die vroeë Christelike kerk se uitbreiding van die Romeinse ideaal van beheer oor die individu deur die verfyning van allerlei burokratiese tegnieke, wat insluit die kollektiewe organisering van die gemeenskapslewe deur die regstegniese verfyning van die huwelik binne die Romeinse familiereg.
2) III (2), eindnota 13, Verheijen se Nouvelle approche de la Règle de saint Augustin (1980:153–200), wat Foucault gebruik ter ondersteuning van sy lesing van Augustinus se Sermones 205 tot 211 rondom die verhouding tussen die huwelik en maagdelikheid, en juis die ideaal van maagdelikheid binne die huwelik.
3) III (2), eindnota 39, Agaësse en Solignac se Oeuvres de saint Augustin 49 (1972:516–30), ten opsigte van die eggenote as juis ’n geestelike metgesel en nie bloot ’n vrugbare voortplantingsgenoot nie. Opvallend roep Foucault wel Agaësse en Solignac se hulp in ten opsigte van die vertaling van ’n buitengewoon moeilike Latynse teks (De Genesi ad Litteram IX 9, 15 in Deel III [2], eindnota 44).
5.6 Gevolgtrekking: Foucault se bronnehantering ten opsigte van Augustinus in Les aveux de la chair
Ten opsigte van Augustinus in Les aveux de la chair werk Foucault nie met minder forensiese presisie as wat van ’n “beroepshistorikus” verwag sou kon word nie. Daar is geen rede om te vermoed dat dit nie ook die geval is met sy lesing van die ander kerkvaders wat in Les aveux de la chair aan die bod gebring word nie. Elke parafrasering, aanhaling en vertaling van Augustinus se tekste is in bostaande ontleding sistematies gekontroleer. Daar is nie ’n enkele voorbeeld van ’n verwysing wat nié met die betrokke primêre teks ooreenstem nie. Daarby kan kwalik kritiek ingebring word teen Foucault se parafraserings en dinamiese vertalings in die ooreenstemmende gedeeltes in die hoofteks. Foucault se verwysings en afleidings is sonder uitsondering objektief korrek – “objektief”, na die “beroepshistorici” se aandrang, in die sin dat dit verifieerbaar getoets kan word aan die tersaaklike primêre bronne. In sy ideëhistoriese ontleding werk Foucault dus nie minder akkuraat, gelykmatig en saaklik as wat vir ’n “beroepshistorikus” sou kon geld nie. Hierdie gevolgtrekking sou uiteraard slegs deur valsifiëring getoets kon word.
’n Geldige punt van kritiek sou wel kon wees dat Foucault se gebruik van die tersaaklike sekondêre literatuur uitermate beperk is. Foucault gebruik byvoorbeeld nie die waarskynlik mees invloedryke Franse kenner van Middeleeuse filosofie uit die eerste helfte van die 20ste eeu, Étienne Gilson (1884–1978), se Introduction à l’étude de St Augustin nie (Gilson 1960 [Franse uitgawe reeds in 1929]). Ook verwys Foucault op geen plek na Gilson se gesaghebbende uitleg van Augustinus se plek binne die Middeleeuse filosofiese korpus nie (onder meer in Gilson se inleidingswerke L’esprit de la philosophie médiévale, eerste Franse uitgawe 1932, Études de philosophie médiévale, eerste Franse uitgawe 1921, en La philosophie au moyen-âge, I en II, eerste Franse uitgawe 1921). Foucault verwys ook op geen stadium na die werk van sy twee vernaamste pleitbesorgers, Peter Brown33 en Le Goff, nie. Dit is duidelik dat Foucault sy eie oordeel vertrou, by gesaghebbende sekondêre bronne verbygaan en dus algeheel selfstandig met die primêre tekste wil werk. Die voordeel is dat hy met hierdie werkswyse ruimte daarvoor gelaat het dat sy lesing as ’n oorspronklike eksegetiese bydrae tot die Augustinus-navorsing gekenmerk kan word. Die nadeel is dat hy sy lesing nie deeglik getoets het aan die bestaande sekondêre literatuur nie – waarop enige “beroepshistorikus” tereg sal aandring.
Selfs al sou dit net van sy vindingryke dog kontroleerbare lesing van Augustinus in Les aveux de la chair afhang, was Le Goff reg: Foucault se lesing van die Middeleeue behels duidelik méér as analogie en retoriek. Payer se geldige vakkundige vraag is hiermee ook beantwoord: Foucault het die tersaaklike vroeë-Middeleeuse bronne in hierdie werk noukeurig gelys, bespreek en toegepas. Ten minste sover dit Augustinus en die vroeë Middeleeue betref, is die aanklag van ’n alomteenwoordige utopiese mediëvalisme by Foucault hiermee as sélf grondig mediëvalisties aangetoon.
6. Samevatting
Op grond van die afwesigheid van tersaaklike ontledings in die sekondêre literatuur is Foucault se vertolking van die Middeleeue as ’n onderontginde tema in die bestaande navorsing aangetoon. Teen hierdie agtergrond is gevra of verwysings na die Middeleeue in Foucault se tekste slegs as analogiese, retoriese en gevolglik modernkritiese geleiers in sy oeuvre dien. In die afwesigheid van ’n konsensusantwoord op hierdie vraag is Foucault se verwysings na Augustinus en die vroeë Middeleeue in een van sy mees onlangse publikasies, Les aveux de la chair, as gevallestudie bespreek. Op die spoor van Pierre Payer se kritiese vrae rakende metodologiese aspekte in Histoire de la sexualité 1 en op grond van Jacques le Goff se oortuiging dat Foucault wel tot Middeleeuse studies as sodanig meegewerk het, is Foucault in hierdie artikel middewegsoekend by die histories verifieerbare bronne gehou.
Hoewel Foucault se verwysings na die Middeleeue wel ’n analogiese en dus argumentatiewe, retoriese en modernkritiese funksie gehad het, het hy in Les aveux de la chair ’n gespesialiseerde bydrae tot Middeleeuse studies gelewer. Daarom behoort bewerings van ’n verskuilde mediëvalisme by Foucault afgewys te word. Trouens, niemand het die Middeleeue gelees en verstaan soos Foucault nie. Hy het die Middeleeue nie bloot geretoriseer nie, maar ons anders daarna laat kyk – en nie met ’n perverse oog nie.
Bibliografie
Agaësse, P. en A. Solignac (reds.). 1972. Oeuvres de saint Augustin 49, De Genesi ad litteram (VIII–XII). Parys: Desclée de Brouwer, Bibliothèque Augustinienne.
Artieres, P., J.F. Bert, F. Gros en J. Revel (reds.). 2011. Foucault. Cahiers de L’Herne 95. Parys: L’Herne.
Augustinus. 1845a. De bono coniugali. Migne, J.-P. (red.). Patrologia Latina, 40:373–94. Sien ook Zycha, J. (red.). 1900. Corpus Scriptorum Ecclesiasticorum Latinorum 41. Verlag der Österreichischen Akademie der Wissenschaften. Wene: Tempsky.
—. 1845b. De bono viduitatis. Migne, J.-P. (red.). Patrologia Latina, 40:429–51. Sien ook Zycha, J. (red.). 1900. Corpus Scriptorum Ecclesiasticorum Latinorum 41. Verlag der Österreichischen Akademie der Wissenschaften. Wene: Tempsky.
—. 1845c. De sancta virginitate. Migne, J.-P. (red.). Patrologia Latina, 40:395–428. Sien ook Zycha, J. (red.). 1900. Corpus Scriptorum Ecclesiasticorum Latinorum 41. Verlag der Österreichischen Akademie der Wissenschaften. Wene: Tempsky.
—. 1845d. De conjugiis adulterinis. Migne, J.-P. (red.). Patrologia Latina, 40:451–86. Sien ook Zycha, J. (red.). 1900. Corpus Scriptorum Ecclesiasticorum Latinorum 41. Verlag der Österreichischen Akademie der Wissenschaften. Wene: Tempsky.
—. 1865. De nuptiis et concupiscentia. Patrologia Latina, 44:415–74. Sien ook Urba, C.F. en J. Zycha (reds.). 1902. Corpus Scriptorum Ecclesiasticorum Latinorum 42. Verlag der Österreichischen Akademie der Wissenschaften. Wene: Tempsky.
—. 1913. De natura et gratia. Corpus Scriptorum Ecclesiasticorum Latinorum 60. Verlag der Österreichischen Akademie der Wissenschaften. Urba, C.F. en J. Zycha (reds.). Wene: Tempsky.
—. 1955. De civitate Dei. Corpus Christianorum Series Latina 47 & 48. Dombart, B. en A. Kalb (reds.). Turnhout: Brepols.
—. 1969a. Confessiones. Skutella, M. (red.). Stuttgart: Teubner.
—. 1969b. Enchiridion ad Laurentium de fide et spe et caritate. Corpus Christianorum Series Latina 46. Vander Plaetse, R. en C. Beukers (reds.). Turnhout: Brepols.
—. 1970a. De ordine. Corpus Christianorum Series Latina 29. Green, M.W. (red.). Turnhout: Brepols.
—. 1970b. De libero arbitrio voluntatis. Corpus Christianorum Series Latina 29. Green, M.W. (red.). Turnhout: Brepols.
—. 1970c. Contra Academicos. Corpus Christianorum Series Latina 29. Green, M.W. (red.). Turnhout: Brepols.
—. 1970d. De Magistro. Corpus Christianorum Series Latina 29. Daur, K.D. (red.). Turnhout: Brepols.
—. 1970e. De Trinitate. Corpus Christianorum Series Latina 50. Mountain, W.J. (red.). Turnhout: Brepols.
—. 1971. De beata vita. Corpus Christianorum Series Latina 29. Green, M.W. (red.). Turnhout: Brepols.
—. 1984. Retractationes. Corpus Christianorum Series Latina 57. Mutzenbecher, A. (red.). Turnhout: Brepols.
—. 1985. De Dialectica. Jackson, D. (red.). Dordrecht: Reidel.
—. 1986a. De immortalitate animae. Corpus Scriptorum Ecclesiasticorum Latinorum 89. Verlag der Österreichischen Akademie der Wissenschaften. Hörmann, W. (red.). Wene: Tempsky.
—. 1986b. Soliloquia. Corpus Scriptorum Ecclesiasticorum Latinorum 89. Verlag der Österreichischen Akademie der Wissenschaften. Hörmann, W. (red.). Wene: Tempsky.
—. 1986c. De quantitate animae. Corpus Scriptorum Ecclesiasticorum Latinorum 89. Verlag der Österreichischen Akademie der Wissenschaften. Hörmann, W. (red.). Wene: Tempsky.
—. 1996a. De vera religione. Corpus Christianorum Series Latina 32. Daur, K.D. (red.). Turnhout: Brepols.
—. 1996b. De doctrina Christiana. Corpus Christianorum Series Latina 32. Martin, J. (red.). Turnhout: Brepols.
—. 2017. De Musica. Corpus Scriptorum Ecclesiasticorum Latinorum. Jacobsson, M. (red.). Berlyn: Walter de Gruyter.
Bartlett, A.C. 1994. Foucault’s “medievalism”. Mystics Quarterly, 20(1):10–8.
Beukes, J. 2019. “Foucault se sodomiet”: Damianus se Liber gomorrhianus (1049) heropen. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 75(4):1–13. https://doi.org/10.4102/hts.v75i4.5216.
—. 2020a. Histoire de la sexualité “4” (Les aveux de la chair): Aantekeninge vanuit die Nederlandse Foucault-navorsing. Verbum et Ecclesia, 41(1):1–14. https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2078.
—. 2020b. Foucault in Iran, 1978–1979. Kaapstad: Aosis. https://doi.org/10.4102/aosis.2020.BK203.
—. 2020c. Middeleeuse filosofie. Volume I en II. Pretoria: Akademia.
—. 2021a. Augustinus en vroulike homoërotiek in die vroeë Middeleeue: ’n Foucaultiaans-historiografiese interpretasie. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 77(4):1–12. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6880.
—. 2021b. Raptus en die “vorm van die wil”: ’n Transgressiewe lesing van Foucault se Augustinus-interpretasie in Les aveux de la chair. Verbum et Ecclesia, 42(1):1–15. https://doi.org/10.4102/ve.v42i1.2310.
—. 2021c. Foucault se unieke Oriëntalisme. LitNet Akademies, 18(1):147–81. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2021/04/LitNet_Akademies_18-1_Beukes_147-181.pdf.
—. 2021d. Die ontwikkeling en komplekse samehange van die huidige vier bande van Foucault se Histoire de la sexualité. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 61(4/2):1287–310. http://www.scielo.org.za/scielo.php?pid=S0041-47512021000500004&script=sci_abstract.
—. 2021e. Middeleeuse studies, mediëvalistiek en mediëvalisme: Kritiese onderskeide en samehange. Verbum et Ecclesia, 42(1):1–8. https://doi.org/10.4102/ve.v42i1.2236.
—. 2021f. Michel Foucault on Methodius of Olympus (d. ca. 311) in Les aveux de la chair: Patrick Vandermeersch’s analysis contextualised. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 77(4):1–12. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6912.
—. 2022. Die “bekentenisse van die vlees” in die sentrale Middeleeue: ’n verruiming van Foucault se lesing in Histoire de la sexualité 1 (La volonté de savoir). HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 78(4):1–10. https://doi.org/10.4102/hts.v78i4.7216.
—. 2023. The current four volumes of Michel Foucault’s Histoire de la sexualité: A review of the state of research, 2022. Acta Academica, 55(1). [Ter perse].
Bouchard, D.F. (red.). 1977. Language, counter-memory, practice. Selected essays and interviews. Ithaca, New York: Cornell University Press.
Bové, P.A. 2006. The Foucault phenomenon: the problematics of style. In Deleuze 2006:VII–XL.
Brion, F. en B.E. Harcourt (reds.). 2012. Michel Foucault. Mal faire, dire vrai: Fonction de l’aveu en justice: Cours de Louvain, 1981. Leuven: Presses Universitaires de Louvain.
Brown, P. 1967. Augustine of Hippo. A biography. Berkeley: University of California Press. Jongste herdruk 2013, Berkeley: University of California Press.
—. 1988. The body and society. Men, women and sexual renunciation in early Christianity. New York: Columbia University Press. Franse uitgawe 1995: Le renoncement à la chair. Virginité, célibat et continence dans le christianisme primitif. P-E. Dauzat en C. Jacob (verts.). Collection Bibliothèque des Histoires. Parys: Éditions Gallimard.
—. 2018. Il ne fut pas le mauvais génie puritain de l’Occident. L’Histoire, 448(6):35–6.
—. 2021. A conversation. Voordrag gehou by die internasionale konferensie Foucault’s Confessions op 4 Mei 2021, georganiseer en befonds deur die Departement Godsdienswetenskap, Rice Universiteit, Houston. https://foucaultsconfessions.org (11 Maart 2023 geraadpleeg).
Burchell, G., C. Gordon en P. Miller (reds.). 1991. The Foucault effect: Studies in governmental nationality, with two lectures by and an interview with Michel Foucault. Chicago: University of Chicago Press.
Cameron, A. 1986. Redrawing the map: Early Christian territory after Foucault. The Journal of Roman Studies, 76(1):266–71. https://doi.org/10.2307/300375.
Carrette, J.R. 2000. Foucault and religion. Spiritual corporality and political spirituality. Londen, New York: Routledge.
Carrette, J.R. (red.). 1999. Religion and culture: Michel Foucault. Londen, New York: Routledge.
Chevallier, P. 2011a. Foucault et le christianisme. Lyon: ENS Éditions.
—. 2011b. Foucault et les sources patristiques. In Artieres, Bert, Gros en Revel (reds.) 2011:137–42.
Christiaens, T. 2019. Financial neoliberalism and exclusion with and beyond Foucault. Theory, Culture & Society, 36(4):95–116. https://doi.org/10.1177/026327641881636.
—. 2020. The entrepreneur of the self beyond Foucault’s neoliberal homo oeconomicus. European Journal of Social Theory, 23(4):493–511. https://doi.org/10.1177/13684310198579.
—. 2022. Michel Foucault, a neoliberal convert? Voordrag gehou by ’n kollokwium van die vakvereniging Foucault Cirkel Nederland/België op 29 November 2022, georganiseer deur die Departement Filosofie, Universiteit van Amsterdam.
Clark, E.A. 1988. Foucault, the fathers and sex. Journal of the American Academy of Religion, 56(4):619–41.
Clements, N.K. 2021. Foucault’s Christianities. Journal of the American Academy of Religion, 89(1):1–40. https://doi.org/10.1093/jaarel/lfab024.
Cook, D. 2014. Foucault, Freud, and the repressive hypothesis. Journal of the British Society of Phenomenology, 45(2):148–61.
Daniélou, J. en H.-I. Marrou. 1963. Nouvelle histoire de l’Église, Tome 1. Parys: Seuil.
Davidson, A.I. 1995. Postscript. An interview with Pierre Hadot. In Davidson (red.) 1995:277–86.
Davidson, A.I. (red.). 1995. Pierre Hadot. Philosophy as a way of life. Spiritual exercises from Socrates to Foucault. Oxford: Blackwell.
—. 1997. Foucault and his interlocutors. A critical inquiry book. Chicago: University of Chicago Press.
Defert, D. 1994. Foreword. Michel Foucault: Dits et écrits, 1954, 1988, Volume 1. In Defert, Ewald en Lagrange (reds.) 1994:1–26.
Defert, D., F. Ewald en J. Lagrange (reds.). 1994. Michel Foucault: Dits et écrits, 1954, 1988, Volume 1. Quarto Uitgawe. Parys: Gallimard.
Deleuze, G. 2006 [1988]. Foucault. Hand, S. (vert.). Minneapolis: University of Minnesota Press.
De Wet, C.L. 2020. “Le devoir des époux”: Michel Foucault’s reading of John Chrysostom’s marital ethic in Histoire de la sexualité 4: Les aveux de la chair ([1982–1984] 2018). Religion and Theology, 27(1/2):1–38.
Downing, L. 2008. The Cambridge introduction to Foucault. Cambridge: Cambridge University Press.
Dupont, A., W. François en J. Leemans (reds.). 2020. Nos sumus tempora: Studies on Augustine and his reception offered to Mathijs Lamberigts. Leuven: Peeters.
Elden, S. 2016. Foucault’s last decade. Cambridge: Polity Press.
—. 2018. Review: Michel Foucault, Histoire de la sexualité 4: Les aveux de la chair. Theory, Culture and Society, 35(7/8):293–311. http://dx.doi.org/10.1177/0263276418800206.
Ewald, F., A. Fontana en M. Senellart (reds.). 2004a. (Engelse vertaling 2009.) Michel Foucault. Sécurité, territoire, population. Cours au Collège de France, 1977–1978. Parys: Seuil/Gallimard. (Security, territory, population: Lectures at the Collège de France, 1977–1978. Burchell, G. (vert.). New York: Palgrave Macmillan.)
—. 2004b. (Engelse vertaling 2008.) Michel Foucault. Naissance de la biopolitique. Cours au Collège de France, 1978–1979. Parys: Seuil/Gallimard. (The birth of biopolitics: Lectures at the Collège de France, 1978–1979. Burchell, G. (vert.). New York: Palgrave Macmillan).
Falzon, C., T. O’Leary en J. Sawicki (reds.). 2013. A companion to Foucault. West Sussex: Wiley-Blackwell.
Farge, A. 1984. Face à l’histoire. Magazine Littéraire, 207(1):42.
Faustino, M. en G. Ferraro (reds.). 2020. The late Foucault. Ethical and political questions. Londen: Bloomsbury.
Flynn, T. 2005. Foucault’s mapping of history. In Gutting (red.) 2005:29–48.
Foucault, M. 1961. (Eerste Engelse vertaling 1965, hier 2006.) Folie et Déraison: Histoire de la folie à l’âge classique. Parys: Plon/Gallimard. (History of madness. Khalfa, J. (red.). Murphy, J. en J. Khalfa (vert.). Londen, New York: Routledge.)
—. 1963. (Engelse vertaling 1973.) Naissance de la clinique. Parys: Presses Universitaires de France. (The birth of the clinic: An archaeology of medical perception. Sheridan, A.M. (vert.). Londen: Tavistock/Routledge, 2003–uitgawe.)
—. 1966. (Engelse vertaling 1970.) Les mots et les choses. Parys: (Éditions) Gallimard. (The order of things. An archaeology of the human sciences. Sheridan, A.M. (vert.). Londen: Tavistock/Routledge.)
—. 1969. (Engelse vertaling 1972.) L’Archéologie du savoir. Parys: (Éditions) Gallimard. (The archaeology of knowledge. Sheridan, A.M. (vert.). Londen: Tavistock/Routledge.)
—. 1975. (Engelse vertaling 1977.) Surveiller et punir: Naissance de la prison. Parys: (Éditions) Gallimard. (Discipline and punish: The birth of the prison. Sheridan, A.M. (vert.). New York: Random House, 1995-uitgawe.)
—. 1976. (Engelse vertaling 1978.) Histoire de la sexualité 1: La volonté de savoir. Collection Bibliothèque des Histoires. Parys: (Éditions) Gallimard. (The history of sexuality, Volume 1: The will to knowledge. Hurley, R. (vert.). New York: Pantheon.)
—. 1977. Language, counter-memory, practice. Selected essays and interviews. Bouchard, D.F. (red. en inl.) Bouchhard, D.F. en S. Simon (verts.). Ithaca, New York: Cornell University Press.
—. 1984a. (Engelse vertaling 1985.) Histoire de la sexualité 2: L’usage des plaisirs. Collection Bibliothèque des Histoires. Parys: (Éditions) Gallimard. (The history of sexuality, Volume 2: The use of pleasure. Hurley, R. (vert.). New York: Random House.)
—. 1984b. (Engelse vertaling 1986.) Histoire de la sexualité 3: Le souci de soi. Collection Bibliothèque des Histoires. Parys: (Éditions) Gallimard. (The history of sexuality, Volume 3: The care of the Self. Hurley, R. (vert.). New York: Pantheon.)
—. 1991a. Remarks on Marx. Conversations with Duccio Trombadori. Goldstein, R.J. en J. Cascaito (vert.) New York: Semiotext(e).
—. 1991b. Politics and the study of discourse. In Burchell, Gordon en Miller (reds.) 1991:72.
—. 1999. Sex and solitude. In Carrette (red.) 1999:182–7.
—. 2018. (Engelse vertaling 2021.) Histoire de la sexualité 4: Les aveux de la chair. Bibliothèque des Histoires. Parys: (Éditions) Gallimard. (The history of sexuality, Volume 4: Confessions of the flesh. Hurley, R. (vert.). New York: Pantheon.)
Gane, M. en T. Johnson (reds.). 1993. Foucault’s new domains. Londen, New York: Routledge.
Gilson, E. 1940. (Eerste Franse uitgawe 1932, L’esprit de la philosophie médiévale.) The spirit of Mediaeval philosophy. New York: Scribner.
—. 1955. History of Christian philosophy in the Middle Ages (grootliks gebaseer op bywerkings van die Franse uitgawes van 1921, Études de philosophie médiévale, en 1922, La philosophie au moyen-âge, I & II). Londen: Sheed & Ward.
—. 1960. (Eerste Franse uitgawe 1929, Introduction à l’etude de Saint Augustin.) The Christian philosophy of St Augustine. New York: Random House.
Goldhill, S. 1995. Foucault’s virginity. Ancient erotic fiction and the history of sexuality. Cambridge: Cambridge University Press.
Gordon, C. 1990. History, madness and other errors: a response. History of the Human Sciences, 3(3):381–96. https://doi.org/10.1177%2F095269519000300306.
—. 2013. History of madness. In Falzon, O’Leary en Sawicki (reds.) 2013:84–103.
Gros, F. (red.). 2001. (Engelse vertaling 2005.) Michel Foucault, L’herméneutique du sujet: Cours au Collège de France, 1981–1982. Parys: Seuil/Gallimard. (The hermeneutics of the subject: Lectures at the Collège de France, 1981–1982. Burchell, G. (vert.). New York: Palgrave Macmillan).
—. 2015. Michel Foucault. Œuvres I, II. Collection Bibliothèque de la Pléiade 607–8. Parys: (Éditions) Gallimard.
—. 2018. Michel Foucault, Histoire de la sexualité 4: Les aveux de la chair. Collection Bibliothèque des Histoires. Parys: (Éditions) Gallimard.
Gutting, G. 2005a. Foucault and the History of madness. In Gutting (red.) 2005:49–73.
—. 2005b. Foucault: A very short introduction. Oxford: Oxford University Press.
Gutting, G. (red.). 2005. The Cambridge companion to Foucault. New York: Cambridge University Press.
Hacking, I. 1979. Foucault’s immature science. Nous, 13(1):39–51.
Howe, A. 2008. Sex, violence and crime - Foucault and the “man” question. New York: Routledge-Cavendish.
Hunt, L. (red.). 1989. The new cultural history. Berkeley, Los Angeles: University of California Press.
Jones, C. en R. Porter (reds.). 1994. Reassessing Foucault. Power, medicine and the body. Londen, New York: Routledge.
Kelly, M.G.E. 2009. The political philosophy of Michel Foucault. Londen, New York: Routledge.
Kritzman, L.D. (red.). 1988. Michel Foucault. Politics, philosophy, culture. Interviews and other writings, 1977–1984. Londen, New York: Routledge.
LaCapra, D. 1989. Foucault, history, and madness. History of the Human Sciences, 3(3):31–8.
Laharie, M. 1991. La folie au Moyen Âge: XIe-XIIIe siècles. Parys: Le Léopard d’Or.
Leezenberg, M. 2018. Foucault and Iran reconsidered: revolt, religion and neoliberalism. Iran Namag, 3(2):4–28. Special Issue on Foucault in Iran.
—. 2023. Van Geert Grote tot Ignatius van Loyola: seks, spiritualiteit en gouvernmentaliteit in de Late Middeleeuwen. Algemeen Nederlands Tijdschrift voor Wijsbegeerte, 115(1):60–72. https://doi.org/10.5117/ANTW2023.1.007.LEEZ.
Le Goff, J. 1988. The medieval imagination. Goldhammer, A. (vert.). Chicago: University of Chicago Press.
Lotringer, S. (red.). 1996. Foucault live (Interviews, 1961–1984). New York: Semiotext(e).
Lynch, R.A. 2013. Reading The history of sexuality, Volume 1. In Falzon, O’Leary en Sawicki (reds.) 2013:154–71.
Majnarić, I., D. Patafta en M. Jerković (reds.). 2019. The Fourth Lateran Council: an event that transformed Europe. Zagreb: Kršćanska sadašnjost.
Malament, B. (red.). 1980. After the Reformation: Essays in honor of J.H. Hexter. Philadelphia: University of Pennsylvania Press.
May, T. 2006. The philosophy of Foucault. Chesham: Acumen.
McGushin, E.F. 2007. Foucault’s askesis. An introduction to the philosophical life. Evanston: Northwestern University Press.
Megill, A. 1987. The reception of Foucault by historians. Journal of the History of Ideas, 48(1):117–41. https://doi.org/10.2307/2709615.
—. 1990. Foucault, ambiguity, and the rhetoric of historiography. History of the Human Sciences, 3(3):343–61. https://doi.org/10.1177%2F095269519000300303.
Midelfort, H.C.E. 1980. Madness and civilization in early modern Europe: a reappraisal of Michel Foucault. In Malament (red.) 1980:247–65.
Mills, S. 2003. Michel Foucault. Londen, New York: Routledge.
Morton, S. en S. Bygrave (reds.). 2008. Foucault in an age of terror. Essays on biopolitics and the defence of society. New York: Palgrave MacMillan.
O’Brien, P. 1989. Foucault’s history of culture. In Hunt (red.) 1989:25–46.
O’Farrell, C. 2005. Michel Foucault. Londen: Sage Publications.
Oksala, J. 2005. Foucault on freedom. Cambridge: Cambridge University Press.
—. 2013. From biopower to governmentality. In Falzon, O’Leary en Sawicki (reds.) 2013:320–36.
O’Leary, T. en C. Falzon (reds.). 2010. Foucault and philosophy. West Sussex: Wiley Blackwell.
Oliver, P. 2010. Foucault. The key ideas. New York: McGraw-Hill.
Pasquino, P. 1993. Michel Foucault (1926–84): The will to knowledge. In Gane en Johnson (reds.) 1993:36–48.
Payer, P.J. 1985. Foucault on penance and the shaping of sexuality. Sciences Religieuses / Studies in Religion, 14(3):313–20.
Pearson, J. (red.). 2001. Michel Foucault. Fearless speech. Los Angeles: Semiotext(e).
Prado, C.G. 2000. Starting with Foucault. An introduction to genealogy. Oxford: Westview Press.
Praet, D. 2020. Augustine of Hippo and Michel Foucault’s history of sexuality. In Dupont, François en Leemans (reds.) 2020:213–36. http://hdl.handle.net/1854/LU-8685052 (30 Januarie 2023 geraadpleeg).
Rabinow, P. 1984. The Foucault reader. New York: Pantheon.
Raffnsøe, S. 2018. Michel Foucault’s Confessions of the flesh. The fourth volume of the History of sexuality. Foucault Studies, 25(1):393–421. https://doi.org/10.22439/fs.v25i2.5593.
Raguž, I. 2019. On the sacrament of confession: Michel Foucault and the Fourth Lateran Council. In Majnarić, Patafta en Jerković (reds.) 2019:317–35.
Scull, A. 1990. Michel Foucault’s history of madness. History of the Human Sciences, 3(3):57–67. https://doi.org/10.1177%2F095269519000300109.
Sedgwick, P. 1982. PsychoPolitics: Laing, Foucault, Goffmann, Szasz, and the future of mass psychiatry. Londen: Pluto.
Sheridan, A. 1980. Michel Foucault. The will to truth. Londen, New York: Routledge.
Simons, J. 1995. Foucault and the political. Londen, New York: Routledge.
Smart, B. 2002. Michel Foucault. Londen, New York: Routledge.
Stone, L. 1982. Madness. New York Review of Books, 16 Desember, bl. 37. https://www.nybooks.com/articles/1982/12/16/madness (30 Januarie 2023 geraadpleeg).
Tanke, J.J. 2009. Foucault’s philosophy of art. A genealogy of modernity. Londen, New York: Continuum.
Taylor, C. 2017. The Routledge guidebook to Foucault’s The history of sexuality. Oxon, New York: Routledge.
Taylor, D. (red.). 2011. Michel Foucault. Key concepts. Durham: Acumen.
Tran, J. 2011. Foucault and theology. Londen, New York: T&T Clark International.
Verheijen, L. 1980. Nouvelle approche de la Règle de saint Augustin. Abbaye de Bellafontaine: Bégrolles-en-Mauges.
Veyne, P. 1978. La famille et l’ amour sous le haut Empire romain. Annales ESC, 33(1):35–63.
Westerink, H. 2023. Foucault and the problematics of the will in Cassian and Augustine. Algemeen Nederlands Tijdschrift voor Wijsbegeerte, 115(1):19–29. https://doi.org/10.5117/ANTW2023.1.004.WEST.
Whitebrook, J. 2005. Against interiority: Foucault’s struggle with psychoanalysis. In Gutting (red.) 2005:312–47.
Eindnotas
1 “I am not a professional historian – nobody is perfect”, vertaal uit Frans deur Megill (1987:117). Verwysings na Foucault se tekste in hierdie artikel dui die jaar van oorspronklike publikasie in Frans en met die Franse titel aan. Die bladsynommers verwys egter na die Engelse vertalings, ter wille van diegene wat nie Frans magtig is nie, direk ná die Franse titels in die bibliografie. Vertalings uit Frans en Latyn is die skrywer se eie en dinamies van aard. Aanhalings uit tekste wat oorspronklik in Engels gepubliseer is, word nie vertaal nie.
2 “The way they [the ‘professional historians’] work is by ascribing the object they analyze to the most unitary, necessary, inevitable and (ultimately) extra-historical mechanism or structure available. An economic mechanism, an anthropological structure or a demographic process which figures the climatic stage in the investigation – these are the goals of de-eventalized history. Of course, these remarks are only intended as a crude specification of a certain broad tendency” (Foucault 1991:77, vertaal uit Frans deur Burchell, Gordon en Miller (reds.) 1991:77). Vir ’n bondige oorsig van Foucault se stryd met die “beroepshistorici”, sien Gutting (2005a:49–50).
3 “Foucault’s medievalism […] held up the Middle Ages as a past that offered a nostalgic alternative to the problems of the present” (Bartlett 1994:15).
4 “Nostalgic”, “eligiac”, “lamenting”, “utopian” (Bartlett 1994:15).
5 Middeleeuse studies sluit alle dissiplines in wat gemoeid is met die vertaling, ontleding en kritiese kommentariëring van tekste wat vanaf ongeveer die vroeë vyfde eeu tot die middel van die 15de eeu geskryf is. Dit sluit in onder meer tekste in Middeleeuse argitektuur, geskiedenis, filosofie, kuns, musikologie, sosiologie en teologie, asook manuskripredigering en vertalings van Middeleeuse tekste in die tersaaklike tale, onder andere (Middeleeuse) Latyn, Arabies, Hebreeus, Grieks, Middel(hoog)duits, Middelnederlands, Middelengels en Oudfrans.
6 In dieselfde jaar waarin Les aveux de la chair verskyn het, is Foucault se vroeë lesings oor seksualiteit by die Universiteite van Clermont (1964) en Vincennes (1969) deur EHESS / Gallimard / Seuil in Parys uitgegee, onder die titel La Sexualité. Cours donné à l’université de Clermont-Ferrand (1964) suivi de Le Discours de la sexualité. Cours donné à l’université de Vincennes (1969). In 2021 het ook Foucault se vroegste lesings (1954–1955) oor filosofiese antropologie by dieselfde uitgewer verskyn, onder die titel La Question anthropologique. Les aveux de la chair is dus slegs een van Foucault se mees onlangs geredigeerde publikasies.
7 Merkwaardig het Hurley, wat ook die eerste drie bande van Histoire de la sexualité vier dekades gelede in Engels vertaal het (sien die vertalings by Foucault 1976, 1984a, 1984b), ook die vierde band in 2021 vertaal (sien die vertaling by Foucault 2018). Hurley se vertalingsbydrae tot die reeks Histoire de la sexualité is ’n sonderlinge prestasie en verdien nogeens eervolle vermelding.
8 Vir ’n oorsig van die komplekse ontwikkeling en samehange van die huidige vier bande van Histoire de la sexualité, veral na die byvoeging van Les aveux de la chair, sien Beukes (2021d:1287–310). Vir ’n oorsig van ontwikkelinge in die gespesialiseerde Foucault-navorsing met betrekking tot Les aveux de la chair in spesifiek Nederland en België vanaf 2018 tot 2020, sien Beukes (2020a:1–14). Vir omvattende oorsigte van Foucault se lesing van Augustinus in Les aveux de la chair, sien Praet (2020:213–36) en Beukes (2021a:1–12; 2021b:1–15). Vir Foucault se lesing van Methodius van Olimpus (d. c. 311), sien Beukes (2021f:1–12); vir Johannes Chrusostomus (c. 347–407), sien De Wet (2020:1–38); vir Johannes Cassianus (366–435), sien Westerink (2023:19–29). Vir ’n samevattende oorsig van stroomversnellings in die internasionale Foucault-navorsing vanaf 2018, met klem op die mees onlangse ontledings van Les aveux de la chair, sien Beukes (2023).
9 Foucault self het Augustinus as die wesenlike oorgangsfiguur tussen die patristiek en die Middeleeue verstaan. In sy bespreking van die Apophthegmata Patrum Aegyptiorum (Spreuke van die Woestynvadere), in sy Leuvense kursus van 1981, tipeer Foucault Augustinus byvoorbeeld reguit as “die skrywer wat sowel die veronderstelde einde van die antieke era as die begin van die Middeleeue beliggaam” (Foucault in Brion en Harcourt (reds.) 2012:91).
10 Foucault se proefskrif, “Folie et Déraison: Histoire de la folie à l’âge classique”, is in 1961 gepubliseer deur Plon en aanvanklik in 1965 deur Richard Howard in Engels vertaal as Madness and civilization. Die tweede Franse uitgawe by Gallimard (1972), wat by verre die meeste van Foucault se tekste uitgegee het (later saam met EHESS en Seuil), is in die Engelse vertaling beter bekend as History of madness. Hoewel slegs die eerste woord in Franse titels normaalweg met ’n hoofletter geskryf word, het Foucault daarop aangedring dat déraison met ’n hoofletter geskryf word, as ’n soort semiotiese bevestiging van die syns insiens gelykwaardigheid van waansin (folie) en irrasionaliteit (déraison) in hulle verset teen moderne instrumentele rasionaliteit (sien Defert 1994:1–26, in die voorwoord tot die geredigeerde byeenbring van tekste waarvoor Foucault wél uitdruklik magtiging verleen het vir nadoodse publikasie, in Dits et écrits, Volume 1).
11 Die tans nog ongeredigeerde manuskrip La chair et le corps se wesenlike oogmerk was om die voortgaande institusionalisering van biegpraktyke in die latere Middeleeue (die 15de en selfs nog die 16de eeu) te ondersoek – reeds vanaf bovermelde Vierde Lateraanse Konsilie, waartydens die verpligte jaarlikse bieg gesakramentaliseer is – maar dan ook vanaf die Konsilie van Trent (1545–1563; Concillium Tridentinum), wat gevolg het op die Vyfde Lateraanse Konsilie (1512–1517, die laaste konsilie direk voor die Hervorming; vgl. Gros 2018:I, vn. 4).
12 Dit wil sê die (vroeë, sentrale en latere) Middeleeue, Renaissance, Hervorming en Teenhervorming (vgl. Gros 2018:VIII–X; Elden 2018:308–11; Raffnsøe 2018:415). Ten opsigte van die latere Middeleeue en die gelyklopende invloed van die devotio moderna op Foucault, sien die intuïtiewe lesing van Leezenberg (2023:60): “Wellicht kan een blik op de Lage Landen onze kennis van deze geschiedenis verder verfijnen en nuanceren; zelf heeft Foucault immers maar weinig gezegd en geschreven over de late Middeleeuwen en de Renaissance.”
13 Die finale redigering en publikasie van bogenoemde twee manuskripte, La chair et le corps en La croisade des enfants, indien dit wel vermag word, kan nog jare duur. Tot dan kan slegs vanuit Foucault se gepubliseerde tekste gewerk word en is dit juis verantwoordbaar om een van sy mees onlangse publikasies te gebruik om sy vertolking van die Middeleeue te kenskets. Hierby moet benadruk word dat die begrippe ideëhistories en diskoers na Foucault se argeologieë van kennis en genealogieë van die subjek dui op sowel ’n “geskiedenis van die filosofie” as ’n “filosofie van die geskiedenis”. Idees is hiervolgens onlosmaaklik gebed binne die kultuurhistoriese en institusionele kontekste waarin dit beslag gekry het – terwyl institusies en praktyke nie onafhanklik verstaan kan word van die idees wat dit gevorm het nie. Trouens, wie ’n idee of ’n “filosofie” vanuit ’n bepaalde epog wil verstaan, is volgens Foucault in die eerste plek aangewese op ’n ontleding van die praktyke en institusionele vorme waarin die betrokke idee beslag gekry het (byvoorbeeld ten opsigte van praktykvorming en institusionele gestaltes in die geskiedenis van idees oor waansin [in die gestig of kliniek], of in die geskiedenis van idees oor dissiplinering [in die tronk, militêre kaserne, skool, of fabriek] en strafregpleging [in die tronk, hof, of tribunaal], of in die geskiedenis van idees oor seks [in die kerk, klooster, of konfessionele ruimtes]). Institusionele ontwikkelinge en praktykvorming kan in hierdie Foucaultiaans-ideëhistoriese sin, of in terme van sy teenswoordige geskiedenisse, dus nie onafhanklik begryp word van die idees wat dit gevorm het nie – net soos wat daardie idees geen selfstandige groothede was nie, maar uitdruklik binne die kultuurhistoriese en maatskaplike konteks(te) van onder meer die Middeleeue gevorm is. Dit geld na Foucault se aanwysing vir elke idee, of stelsel van idees, binne elke epog in die geskiedenis; en andersom, vir die ideëgebondenheid van elke institusie in die kultuurgeskiedenis (vgl. Foucault 1961:78–107, 1963:67–101; 216–23; 1975:231–56). Hierdie bespreking wil dienooreenkomstig rekening hou met die verhouding tussen idees en institusies in Foucault se verwysings na die vroeë Middeleeue in Les aveux de la chair. Die ideëhistoriese en diskursiewe vorm die grondslag van sy verwysings na die Middeleeue en behoort as sodanig eerbiedig te word.
14 Payer (1985:313–4) het hierdie metodologiese en breër wetenskapsteoretiese kwessie ten opsigte van La volonté de savoir destyds só verwoord: “[La volonté de savoir] raises a serious methodological point. Generally, it lacks an adequate documentary base […] One is placed in the position either of simply taking Foucault’s views on faith or waiting for subsequent volumes in the hope of receiving the documentary evidence […] Philosophical speculation about historical movements ought to be grounded in evidence related to these movements regardless of how attractive the rationality of the thesis […] The only course open would seem to be to compare the unsubstantiated theory or postulate with the available evidence […] and the evidence is often far more ambiguous than Foucault makes it out to be.”
15 Twee onlangse voorbeelde hiervan is ’n bespreking van sentraal-Middeleeuse bieghandleidings ter verruiming van Foucault se lesing in La volonté de savoir deur Beukes (2022:1–10) en Raguž (2019:317–3). Ten opsigte van Foucault (1976:43) se beroemde stelling in La volonté de savoir, “[In die Middeleeue] was die sodomiet bloot ’n sondaar, nou is die homoseksueel ’n spesie”, sien Beukes (2019:1–13): Foucault dui nie aan waarna hierdie sodomiet sou verwys nie, terwyl hy ook nie die verskynsel van sodomie in die vroeë en sentrale Middeleeue (’n algeheel ander verskynsel as die laat-Middeleeuse en vroegmoderne weergawe daarvan, veral in die strafregtelike toepassing [sowel anale verkragting as instemmende anale seks tussen persone van dieselfde geslag] van die begrip vanaf die laat 14de eeu) verder ondersoek het nie. “Foucault se sodomiet” is gevolglik (onafwendbaar argumentatief) herlei na ’n sensuurteks vanuit die middeldekades van die 11de eeu. Hierdie soort verruimings van Foucault se verwysings na die Middeleeue is die regstreekse gevolg van die oorwegend anekdotiese aard daarvan in sy gepubliseerde tekste.
16 “All of Foucault’s major works are histories of a sort, which is enough to make him a historian of a sort. The challenge is to determine what sort of history he does and thus what kind of historian he is” (Flynn 2005:29).
17 Midelfort (1980:259) skryf onder meer: “What we have discovered in looking at Folie et Déraison is that many of its arguments fly in the face of empirical evidence, and that many of its broadest generalizations are oversimplifications. Indeed, in his quest for the essence of an age, its episteme, Foucault seems simply to indulge in a whim for arbitrary and witty assertion so often that one wonders why so much attention and praise continue to fall his way.”
18 “How far […] are complaints in English-speaking academia about deficiencies in Foucault’s scholarship objections which can be turned back with interest on the complainers, whose starting-point may not be the complete and authentic version of Foucault’s own argument? […] However, regrettably, one must concede that there is some truth to these allegations” Scull (1990:57). Scull se voorbehoud word bevestig deur die Amerikaanse geskiedkundige Patricia O’Brien (1989:31): “[H]istorians who are willing to admit that Foucault was writing history find it bad history, too general, too unsubstantiated, and too mechanistic.”
19 “[T]he relation of Foucault’s historiography to the more conventional historiography practised by professional historians […] boils down to matters of rhetoric – to matters, that is, of language and argument. The tension […] between Foucault and the ‘professional historians’ is largely a matter of adherence to different rhetorical conventions” (Megill 1990:343).
20 Die vraag is dus of “beroepshistorici” soos Payer, Midelfort, Sedgwick, Stone, Hacking en LaCapra se voorbehoude ten opsigte van Foucault se retorisering van die historiese bronne in sy verwysings na die sentrale Middeleeue in La volonté de savoir (Foucault 1976) en Folie et Déraison (Foucault 1961) ook sou kon geld vir verwysings na die vroeë en latere Middeleeue in sy ander belangrike tekste. In kronologiese volgorde van publikasie sou dit moes geld vir Naissance de la clinique (Foucault 1963, vertaal as The birth of the clinic: an archaeology of medical perception), Les mots et les choses (Foucault 1966, vertaal as The order of things: an archaeology of the human sciences), L’ Archéologie du savoir (Foucault 1969, vertaal as The archaeology of knowledge), bovermelde Surveiller et punir: Naissance de la prison (Foucault 1975), en bovermelde tweede en derde bande van sy seksualiteitsgeskiedenis, L’usage des plaisirs (Foucault 1984a) en Le souci de soi (Foucault 1984b). Hierby sou op die heel minste gevoeg kon word twee van sy latere kursusse by die Collège de France, L’herméneutique du sujet: Cours au Collège de France, 1981–1982 (Foucault in Gros (red.) 2001, vertaal as The hermeneutics of the subject: lectures at the Collège de France, 1981–1982) en Sécurité, territoire, population: Cours au Collège de France, 1977–1978 (Foucault in Ewald, Fontana en Senellart (reds.) 2004a, vertaal as Security, territory, population: lectures at the Collège de France, 1977–1978), asook enkele opstelle en gepubliseerde onderhoude in Bouchard (red.) 1977 se Language, counter-memory, practice, Kritzman (red.) 1988 se Politics, philosophy, culture, Lotringer (red.) 1996 se Foucault live en Foucault (1991a) se selfgeredigeerde Remarks on Marx (vertaal deur R.J. Goldstein en J. Cascaito).
21 Aangesien die sekondêre literatuur bykans onoorsigtelik geword het, is hierdie lys kwalik volledig. Dit kan egter vir die voorhande oogmerk – dit wil sê, met betrekking tot Foucault se verwysings na die Middeleeue – as ’n verteenwoordigende snit vanuit die betreklik onlangse literatuur (oor ongeveer die afgelope drie dekades) dien.
22 Hierdie aweregse stelling ondervang die waagmoedige vertrekpunt van Folie et Déraison: Voor die moderne fiksasie op instrumentele rasionaliteit waarmee sowel die kultuur as die natuur onder bedwang gebring is (laasgenoemde tot op die punt van die onafwendbare vernietiging van die aarde deur ’n narsistiese Kapitaloseen, wat Foucault ten spyte van sy dubbelsinnige perspektief op neoliberalisme [sien Christiaens 2019:96–116, 2020:493–511, 2022; Leezenberg 2018:4–28] voorsien het), het waansin en irrasionaliteit oor ’n sonderlinge en selfstandige kennislerige status beskik – maar waansin en irrasionaliteit is aan die einde van die Middeleeue, soos melaatsheid, na eenkantruimtes soos leprosaria en gekkeskepe verban. Die teenrede is dus volgens Foucault ’n moderne ontwerp: Wat nie in die voeë van ’n diensbare instrumentele rasionaliteit tuisgebring kon (en kan) word nie, moes (en moet) verban word na gesanksioneerde ruimtes van sosiohistoriese uitsluiting.
23 Goewermentaliteit (Engels governmentality, Nederlands gouvernmentaliteit) is ’n begrip wat Foucault in die Collège de France-kursusse van1977–1978 en 1978–1979 ontwikkel het (sien Foucault in Ewald, Fontana en Senellart ([reds.] 2004b:12–6). Dit is wesenlik ’n ontwikkelingsbegrip (en nie bloot ’n verbindingsbegrip nie) vanaf goewerment na rasionaliteit na goewermentaliteit (gouvernement – mentalité – gouvernementalité) wat dui op regeringshandelinge in die vroegmoderne era wat gerig sou wees op die subtiele vorming (synde nie herkenbaar as magsuitoefening nie) en beïnvloeding van ’n totale bevolking se gedrag. ’n Vertaling van die term as goewernmentaliteit op die Nederlandse spoor val vreemd op in Afrikaans en word nie hier onverkort so gebruik nie.
24 Daar bestaan geen verwysing na Augustinus in La volonté de savoir (Foucault 1976) nie. In L’usage des plaisirs (Foucault 1984a:40; 138; 253) word drie kort verwysings verskaf (rakende die jong Augustinus se verkenning van die erotiese, die Augustynse sondeleer en Augustinus se leer oor die huwelik). In Le souci de soi (Foucault 1984b:143) word een verwysing gemaak na Augustinus se strydkwessie met die Pelagiaan Julianus van Eclanum (c. 386 – c. 455) oor die vroeë Christelike aksent op die heiligmakende aanspraak van maagdelikheid as ’n selfoffer. Augustinus kom egter wel tereg in al drie dele van Les aveux de la chair, maar in besonder in Deel III, wat oor être marié (die getroude lewe) handel.
25 Dit is opvallend dat Augustinus se vernaamste teks wat oor bekentenisse handel – Confessiones – nie in Les aveux de la chair figureer nie. Confessiones (in Augustinus 1969a geredigeer) kom wel ’n enkele keer in L’usage des plaisirs tereg (Foucault 1984a:40).
26 De natura et gratia is reeds in 1913 in Corpus Scriptorum Ecclesiasticorum Latinorum 60 en De civitate Dei in Corpus Christianorum Series Latina 47 & 48 herredigeer. Die res van die grootste oorblywende deel van die oeuvre het vanaf 1969 gevolg: Sien Augustinus (1969a, Confessiones; 1969b, Enchiridion ad Laurentium de fide et spe et caritate; 1970a, De ordine; 1970b, De libero arbitrio voluntatis; 1970c, Contra Academicos; 1970d, De Magistro; 1970e, De Trinitate; 1971, De beata vita; 1984, Retractationes; 1985, De Dialectica; 1986a, De immortalitate animae; 1986b, Soliloquia; 1986c, De quantitate animae; 1996a, De vera religione; 1996b, De doctrina Christiana; en 2017, De Musica).
27 Die keuse van hierdie vyf tekste is gepas, aangesien Augustinus hier meer sistematies oor seks en verwante kwessies soos die huwelik, die seksuele posisie van weduwees, maagdelikheid en libido handel as in sy ander tekste, waarin verwysings na hierdie kwessies slegs sporadies voorkom.
28 Augustinus verstaan die huwelik in die breër Noord-Afrikaïese sin bloot as ’n “verhouding waarin ’n vrou die voorneme het om permanent saam te leef met en getrou te wees aan die man met wie sy tans saamleef” (Augustinus 1845a:376–7 [Conjunctio viri et feminae quandonam sit connubium, quando non]). Talle uiteenlopende perspektiewe op die huwelik het in die vroeë Christelike kerk bestaan, waarop ’n monolitiese beskouing vanuit die Romeinse familiereg nie afgedwing sou kon word nie. Hiervan is Foucault (2018:347) deeglik bewus.
29 Sien Augustinus se omvangryke betoë in beide De bono coniugali (Augustinus 1845a:382) en De nuptiis et concupiscentia (Augustinus 1865:456).
30 Die apostoliese tradisie, in besonder by Paulus self, dring nie op voortplantingsopset aan as ’n geldige voorwaarde vir seksuele kontak binne die huwelik nie en bied trouens, byvoorbeeld in 1 Korintiërs 7:3–5, ’n opvatting van vrye seksuele toegang binne die huwelik aan as ’n objektiewe huweliksplig: “’n Getroude man moet sy plig teenoor sy vrou nakom, en net so ook ’n getroude vrou haar plig teenoor haar man. ’n Getroude vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar haar man beskik daaroor; net so beskik ’n getroude man nie oor sy eie liggaam nie, maar sy vrou beskik daaroor. Moenie seks binne die huwelik afwys nie, tensy so ooreengekom […]” – dinamiese vertaling uit Nestle Aland Novum Testamentum Graece).
31 Plig en begeerte is immers teenoorstellende diskursiewe begrippe wat tot twee verskillende soorte subjektiwiteitsvorming aanleiding gee. Augustinus is tot dié mate verbind om van die opvatting van “plig” binne die “alledaagsheid van die getroude lewe” afstand te neem dat hy selfs prostitusie aanbeveel vir getroude Christelike mans indien seksuele bevrediging die opset vir seksuele kontak met ’n prostituut sou wees (sien De ordine [Augustinus 1970a:11.4.12]: Aufer meretrices de rebus humanis, turbaveris omnia libidinibus [“Verwyder prostitusie uit die samelewing en dan vernietig wellus alles”]; sien ook die tersaaklike afdeling in De bono conjugali [Augustinus 1845a:XI]). Hierdie aanwysing moet uiteraard nie verstaan word as ’n bedenklike morele pleidooi vir prostitusie nie, maar spruit uit ’n pastorale bewoënheid met getroude mense wat op grond van verpligte seksuele kontak tot wilsverminderde juridiese subjekte verlaag word, terwyl ’n outentieke vorming van die subjek vir Augustinus die wil juis benadruk en seksuele begeerte (anders as seksuele plig) as die vorm van die wil kan figureer.
32 Dit spreek vanself dat geen vorm van nievaginale seks en onanisme (enige vorm van ejakulasie buite die vagina) binne die konteks van hierdie voorskrif geduld sou kon word nie. Hierdie opvatting sou nog tot diep in die latere Middeleeue gehandhaaf word, veral ten opsigte van uitdruklike voorskrifte ten opsigte van ondervragings oor seks in sentraal-Middeleeuse bieghandleidings (sien Beukes 2022:2–3).
33 Brown het bekendheid verwerf vir sy epogmakende Augustine of Hippo: a biography (eerste uitgawe in 1967 gepubliseer, met talle herdrukke daarna, die laaste in 2013), en feitlik eiehandige ontwikkeling van die dissipline Laat-antieke studies (Studies in Late Antiquity) vanaf die laat 1960’s. Hy het Foucault in 1979 by die Universiteit van Berkeley ontmoet. Dit het spoedig duidelik geblyk dat die filosoof en patristiekspesialis met dieselfde temas besig was, hoewel hulle intellektuele agtergronde en metodologiese voorkeure verskil het (Brown 2021:20). Brown se ontleding van die liggaams- en seksualiteitsbeskouing in die vroeë Christendom, The body and society – men, women and sexual renunciation in early Christianity (Brown 1988; in Frans in 1995 in dieselfde reeks as Histoire de la sexualité by Gallimard [Collection Bibliothèque des Histoires] as Le renoncement à la chair [Virginité, célibat et continence dans le christianisme primitif] uitgegee), verskyn vier jaar na Foucault se dood, midde ’n toenemende aantal ontledings van Foucault se (op daardie stadium nog ongepubliseerde) vertolking van die seksbeskouinge van die kerkvaders (vir twee sodanige vroeë lesings van Foucault se vertolking van die vroeë Christelike seksuele moraal, met verwysing na beide L’usage des plaisirs en Le souci de soi, sien Cameron [1986:266–71] en die wydgelese feministiese patristiekspesialis Elizabeth A. Clark [1988:619–41]). Soos wat in die Franse titel Le renoncement à la chair aangedui word, is die oorvleueling tussen Brown en Foucault se ontledings van die voortsetting vanaf die Romeinse na die vroeë Middeleeuse seksuele moraal opvallend. In sy reaksie kort na die publikasie van Les aveux de la chair merk Brown (2018:35) op dat hy bykans vier dekades na daardie eerste ontmoeting steeds beïndruk is deur die aantal merkwaardige ooreenkomste tussen sy gespesialiseerde ontledings en Foucault se (veronderstelde niegespesialiseerde) vertolking van beskouinge oor seks in die vroeë Christendom. Sonder om dit so af te spreek, het hulle dieselfde tekste uitgesonder en selfs dieselfde tekskritiese versameling (die Jesuïtiese Sources Chrétiennes) gebruik, terwyl hulle onafhanklike gevolgtrekkings merkwaardig ooreengestem het (“[W]e were literally on the same page”, Brown 2021:19). In sy nabetragting benadruk Brown (2018:35) dat Foucault se seksualiteitsgeskiedenis geen sweem van ’n moralistiese blik op die kerkvadergeskiedenis vertoon het nie: “Foucault blames Augustine or early Christianity for nothing. Even the later Foucault was still enough of a structuralist not to engage his field of investigation so moralistically.”
- Die skildery van Augustinus deur Sandro Botticelli op hierdie artikel se fokusprent is in die openbare domein en beskikbaar op Wikipedia.
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.
The post Foucault, die "beroepshistorici" en die Middeleeue: Augustinus in <i>Histoire de la sexualité 4</i> (<i>Les aveux de la chair</i>) as gevallestudie appeared first on LitNet.