Quantcast
Channel: LitNet Akademies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 769

Bejaardheid as interseksionele magsdiskoers: Die konsepte van ouderlinge en bejaarde ouerskap en bejaardesorg in die Nuwe Testament

$
0
0

Bejaardheid as interseksionele magsdiskoers: Die konsepte van ouderlinge en bejaarde ouerskap en bejaardesorg in die Nuwe Testament

Chris L. de Wet, Departement Bybelse en Antieke Studie, Universiteit van Suid-Afrika

LitNet Akademies Jaargang 20(2)
ISSN 1995-5928
https://doi.org/10.56273/1995-5928/2023/j20n2c1

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Die doel van hierdie artikel is om te ondersoek hoe bejaardheid as ’n interseksionele magsdiskoers in die Nuwe Testament funksioneer. Om hierdie kwessie te verken neem die artikel die rol van bejaardes sowel as die status en versorging van bejaarde ouers as gevallestudies. Die artikel benader ouderdom as ’n diskoers, een wat nie net fisiek of biologies gekonstrueer is nie, maar ook sosiaal en kultureel bepaal is. Verder maak die artikel staat op die benadering van interseksionaliteit om sommige van die gevolge van gerontologiese magsdiskoers in die Nuwe Testament uit te lig, wat demonstreer dat wanneer ouderdom as ’n magsdiskoers funksioneer, dit dien om ’n minderheid (gewoonlik elite-, vrygebore mans) in te sluit en die magtelose bejaarde meerderheid (gewoonlik vroue, slawe, armes, ens.) uit te sluit. Die belangrikste gevolgtrekking is dat magsnetwerke op sigself op ’n interseksionele wyse funksioneer. Sulke netwerke is sosiaal en kultureel kompleks. Ons moet versigtig wees om nie te aanvaar dat die akteurs wat sigbaar in tekste uitgebeeld word, die hele netwerk uitmaak nie. In die geval van die Nuwe Testament is magsnetwerke eerder ingebed in die breër patriargale sosiokulturele sisteem, en die waardes en beginsels van patriargalisme struktureer ook die netwerke en reguleer die akteurs in hierdie netwerke. Daar word getoon dat dit die geval vir bejaardes, hetsy ouderlinge en/of ouers, is, asook die geval vir vroue, slawe, en ook etniese buitestanders. Om magsdinamika in die Nuwe Testament werklik te verstaan, moet daar ’n bewustheid wees van die onsigbare of minder sigbare lae van die magsnetwerke en bemagtigde of magtelose akteurs in daardie lae.

Trefwoorde: bejaardheid; bejaardesorg; interseksionaliteit; mag; magsdiskoers; Nuwe Testament; ouderlinge; ouersorg

 

Abstract

Old age as intersectional discourse of power: the concepts of elders and elderly parenting and care in the New Testament

The purpose of this article is to investigate how old age operates as an intersectional power discourse in the New Testament. To explore this issue, the study takes the role of elders as well as the status and care of elderly parents as case studies. The article approaches old age as a discourse, one which is not only physically or biologically constructed, but also socially and culturally determined. Furthermore, the article relies on the approach of intersectionality to highlight some of the fissures of gerontological power discourse in the New Testament, demonstrating that when old age functions as a power discourse, it serves to include a minority (usually elite, freeborn men) and exclude the powerless elderly majority (usually women, slaves, the poor, etc.). The most important conclusion is that power networks themselves function in an intersectional manner. Such networks are a social and cultural complex. We must be careful not to assume that the actors visible in texts are depicted as constituting the entire network. In the case of the New Testament, power networks are, rather, embedded in the broader patriarchal socio-cultural system, and the values and principles of patriarchal structures also network and regulate the actors in this network. This is shown to be the case for the elderly (elders and/or parents), as well as for women, slaves, and also ethnic outsiders. To truly understand power dynamics in the New Testament there must be an awareness of the invisible or less visible layers of the power networks and empowered or powerless actors in those layers.

The New Testament abounds in power discourse because of its status as a collection of authoritative texts. A recent publication edited by De Villiers and Merz, Power in the New Testament (2021), highlights the complexities of New Testament power dynamics. As Van Henten (2021:3) notes in the introductory analysis of this book, the status of Scripture as “Word of God” confirms the uniqueness of its power and authority. What Van Henten further notes is that power, in this context, is dynamic and relational, and the study of power actors and networks in the New Testament is identified as an important avenue for further research (see also the work of Ehrensperger 2007). This article aims to address this mandate for further research on power discourse and dynamics in the New Testament by focusing on one of the most common discursive manifestations of power and authority, namely age, and more specifically, old age (that is, gerontology).

In an attempt to illustrate the discursivity in the historical study of the elderly and discourse of power in the New Testament I propose two methodological points of departure. In the first case it is very useful to approach old age, aging and the elderly as a discourse in the New Testament; this is a dynamic and strategic way of talking about individual and social bodies, and how these bodies experience and construct the perceived changes of the body as time passes. The approach to age as a discourse therefore helps us to deal with the material and physical aspects of aging that we can find, for example, in the medical-biological approach to ageing, as well as helping us to better understand the socially and culturally constructed nature of old age (especially within a society where power and authority were scarce and coveted).

The second approach that is useful in an analysis of the elderly and power discourse in the New Testament is intersectionality. Questions about age must intersect with, for example, questions about gender or status or disability. It is not useful to simply inquire about an abstract concept like “aging” without capturing it intersectionally. We should be asking questions about elderly men and women, elderly slaves, disabled elderly, elderly prisoners, and so on. Even if these composite social categories are not evident in the biblical text, we nevertheless have the responsibility as ethical interpreters to read these categorisations into the text, based on the evidence at hand (or, sometimes, on speculation), and the possible experiences to imagine and reconstruct all the elderly. As this study elucidates the power discourse of old age in the New Testament, these intersections become clear.

Parkin (2004:13–56) suggested that the age of 60 should be used cautiously as a guideline for the study of old age in Roman society – the guideline is probably the best we could speculate. In this study a similar guideline of 60 years is accepted for the analysis of old age. It must be kept in mind that a person was sometimes considered “old” from the age of 40 years. In Acts 3:1–10 we read of a beggar born lame who is healed by Peter and John. In the next chapter, after the apostles’ questioning, the same man is seen in the crowd of people praising God. Acts 4:21–22 (NRSV) reads: “[F]or all of them praised God for what had happened. For the man on whom this sign of healing had been performed was more than forty years old.” The miraculous nature of the healing is not only related to the man’s disability, but the fact that he was considered a disabled (and poor) old man even at 40. We also clearly see the intersection of age, old age (as a social construction) and disability in this story. The study then uses the notion of elders and the care of elderly parents to explore the intersectional power dynamics of old age further.

What has this study of old age as an intersectional discourse of power taught us about power dynamics in the New Testament in general? After taking Van Henten’s suggestion to further analyse power networks and actors in these networks we can conclude that power networks themselves function in an intersectional manner. These networks are socially and culturally complex, and they always serve to include some and exclude others. We must be careful not to assume that the actors visibly depicted in texts constitute the entire network. In the case of the New Testament, power networks are, rather, embedded in the broader patriarchal socio-cultural system, and the values and principles of patriarchy also structure the networks and regulate the actors in these networks. This was the case for the elderly (elders and/or parents) as well as the case for women, slaves, and also ethnic outsiders. To really understand power dynamics in the New Testament we must, therefore, be well aware of the invisible or less visible layers of the power networks and empowered or powerless actors in those layers.

Keywords: aging; discourse of power; elders; intersectionality; New Testament; old age care; parental care; power

 

1. Inleiding

Die Nuwe Testament is vol magsdiskoerse vanweë sy status as ’n versameling gesaghebbende tekste. ’n Onlangse publikasie onder redaksie van De Villiers en Merz, Power in the New Testament (2021), toon die kompleksiteite van Nuwe Testamentiese magsdinamika. Soos Van Henten (2021:3) in die inleidende ontleding van hierdie boek opmerk, bevestig die status van die Skrif as “Woord van God” die besondersheid van die mag en gesag daarvan. Wat Van Henten verder opmerk, is dat mag, in hierdie konteks, dinamies en relasioneel is, en die studie van magsakteurs en -netwerke in die Nuwe Testament word geïdentifiseer as ’n belangrike weg vir verdere navorsing (sien ook die werk van Ehrensperger 2007). Hierdie artikel het ten doel om hierdie mandaat vir verdere navorsing oor magsdiskoers en -dinamika in die Nuwe Testament aan te roer deur te fokus op een van die mees algemene diskursiewe manifestasies van mag en gesag, naamlik ouderdom en, meer spesifiek, bejaardheid (oftewel gerontologie).

Bejaardheid is nie die eenvoudigste konsep vir ontleding nie, nóg in antieke en Bybelse literatuur nóg in moderne denke. Die analitiese probleme van die bestudering van ouderdom en bejaardheid word die beste uitgedruk in De Beauvoir se werk, oorspronklik in Frans geskryf, La vieillesse (1970), en in 1972 in Engels vertaal. Volgens De Beauvoir word ouderdom gekenmerk deur vervreemding en andersheid. Bejaardheid het, volgens haar, “ten doel om die bejaarde man voor te hou as iemand wat anders is, as ’n ander wese [...] [O]m te dink aan myself as ’n ou mens wanneer ek twintig of veertig is, beteken om aan myself te dink as iemand anders, iemand anders as ek. Elke metamorfose het iets angswekkends aan hom” (De Beauvoir 1970:3, 5; sien ook Gilleard 2022:286–92).1 De Beauvoir se assosiasie van bejaardheid met vervreemding en andersheid het gelei tot die idee dat bejaardheid iets is wat moeilik is om in diskoers te vervat. Bejaardheid is in werklikheid ’n dubbele andersheid deurdat ’n mens van jou self vervreem is, en soms deur die samelewing vervreem word.

Die andersheid en vervreemding van die bejaardes plaas gerontologie2 in ’n unieke posisie met betrekking tot mag en magsdiskoers. Wanneer ons aan bejaardes en die verskynsel van vervreemding en magsdinamiek dink, sien ons dadelik spanning. Hierdie spanning is duidelik in verskeie dimensies van gerontologie, verwant aan beide die antieke en die moderne konteks. Eerstens: Wat is bejaardheid? Hoe kan ons hierdie ontwykende konsep beskryf? Ouderdom en bejaardheid is beide biologiese en sosiokulturele verskynsels, wat aandui hoe samelewings met liggame en die verloop van tyd omgaan. Om bejaardheid en veroudering slegs vanuit ’n medies-biologiese perspektief te benader, sou voordele hê, maar ook baie beperkinge. Verskillende mense verouder op verskillende maniere, en soms word gesê dat iemand beter verouder op grond van hul fisieke en geestelike toestand. Die sosiale en kulturele aspekte van veroudering en bejaardes is duidelik. Aan die een kant is daar deur die geskiedenis die bevel dat kinders vir hul (bejaarde) ouers moet sorg en dat bejaardes respek, waardigheid en ook gesag waardig is. In skrille kontras hiermee sien ons steeds die sistemiese en sistematiese vervreemding van bejaardes in soveel gesinne en samelewings. Hierdie konseptuele en analitiese spanning is ook aanwesig wanneer ons bejaardheid en bejaardes in die Nuwe Testament en die Nuwe Testamentiese wêreld bestudeer. Wat om as oudag te klassifiseer, of wie om as bejaardes te bestempel, is nie ’n eenvoudige taak nie.

In ’n poging om die diskursiwiteit in die historiese studie van bejaardes en magsdiskoers in die Nuwe Testament te illustreer, stel ek twee metodologiese uitgangspunte voor. In die eerste geval is dit baie nuttig om ouderdom, veroudering en bejaardes self as ’n diskoers in die Nuwe Testament te benader; dit wil sê, ’n dinamiese en strategiese manier om oor individuele en sosiale liggame te praat, en hoe hierdie liggame die waargenome andersheid van liggaamlike verandering oor tyd ervaar en konstrueer. Hierdie diskursiwiteit van gerontologie beklemtoon die belang oor mag en kennis, en ouderdom het ’n baie duidelike verhouding met kennis, veral kennis van die self, en hierdie epistemologiese skakel maak ook ouderdom en bejaardheid ’n belangrike faktor in die dinamika van mag in die samelewing (De Wet 2016:492). Die benadering van ouderdom as ’n diskoers help ons dus om die materiële en fisieke aspekte van veroudering te hanteer wat ons byvoorbeeld in die medies-biologiese benadering tot veroudering kan vind, asook om ons te help om die sosiaal en kultureel gekonstrueerde aard van bejaardheid (veral binne ’n samelewing waar mag en gesag skaars en gesog was) beter te begryp en te ontleed. Wanneer ons aspekte van bejaardheid en bejaardes in die Nuwe Testament van nader beskou, sal ons duidelik sien hoe bejaardheid as ’n magsdiskoers funksioneer. Ons moet natuurlik ook let op die verskeidenheid en diversiteit van gerontologiese diskoers in die Nuwe Testament, soos King (2009:59–60) aandui:

[F]or ancients as for moderns, the human experience of bodily change over time requires consciousness of the inevitable mutability of bodily aging, how such transformations are conceptualized and evaluated is far from universal, given the enormous variation in social-ideological-material conditions.

Die tweede benadering wat nuttig is in ’n ontleding van bejaardheid en magsdiskoers in die Nuwe Testament is interseksionaliteit. Dié konsep is oorspronklik deur Crenshaw (1989:139–67; 1991:1241–99) ontwikkel. Interseksionaliteit is baie nou verwant aan die diskoerstrajek deurdat dit ons attent maak op die feit dat sekere verskynsels en konsepte, veral dié wat verband hou met sosiale en juridiese status en identiteit, gekonstrueer word deur hul verhouding, of kruising (interseksie), met ander konsepte. Sosiale kenmerke soos geslag, klas en status, ras, gestremdheid, wetlike status, en ook ouderdom, moet benader word as onderling verbind en oorvleuelend en, bowenal, hierdie dinamika dien om sekere stelsels van benadeling, diskriminasie en onderdrukking te identifiseer.3Vrae oor ouderdom moet kruis met byvoorbeeld vrae oor geslag of status of gestremdheid. Dit is nie nuttig om bloot vrae te stel oor ’n abstrakte konsep soos “bejaardheid” sonder om dit interseksioneel vas te lê nie. Ons behoort vrae te vra oor bejaarde mans en vroue, bejaarde slawe, gestremde bejaardes, bejaarde gevangenes, ens. Selfs al is hierdie saamgestelde sosiale kategorieë nie duidelik in die Bybelse teks nie, het ons nietemin die verantwoordelikheid as etiese interpreteerders om hierdie kategoriserings in die teks in te lees op grond van die bewyse voorhande (of soms, spekulasie), en die moontlike ervarings van alle bejaardes te verbeel en te rekonstrueer. Soos ons voortgaan om die magsdiskoers van bejaardheid in die Nuwe Testament verder toe te lig, sal hierdie kruisings duidelik word.

’n Verwante probleem waarmee ons gekonfronteer word wanneer literêre literatuurgebaseerde navorsing oor bejaardheid en bejaardes gedoen word, is die karigheid van data in die antieke bronne sowel as die bevooroordeelde aard van die bronne. Ons het nie baie bronne wat ons vertel van die ervaring van bejaardes in die Romeinse wêreld nie, en die bronne wat ons wel het, hou meestal verband, soos De Beauvoir (1970:89) in die algemeen ook aangetoon het, met die regerende en bevoorregte klasse, en dan meestal met bejaarde mans. Ons lees baie min oor bejaarde armes, bejaarde vroue en slawe, ens. Ook in die Nuwe Testament is hierdie probleem teenwoordig. Ons moet dus daarop let dat baie van wat ons lees oor bejaardes elite-, weerbare, vrygebore mans veronderstel. Vandaar die behoefte aan ’n interseksionele benadering.

Ons moet in ag neem dat ons in die Romeinse Ryk, wat dien as agtergrond vir die Nuwe Testament, nie ’n formele aftree-ouderdom het nie, en die konsep van “aftrede” was heeltemal anders as wat ons vandag het. Parkin (2004:125) se omvattende studie van bejaardheid in die Romeinse wêreld sê vir ons dat aftrede ’n gerieflike woord is om hier te gebruik, solank onthou word dat daar in die Romeinse wêreld nie so ’n geïnstitusionaliseerde idee was nie, en dit was ook nie verpligtend op enige ouderdom nie. Die enigste soorte aftrede waarvan ons gewoonlik hoor, is basies vrywillige aftrede. Met inagneming van lae vlakke van syfervaardigheid en, soms, onakkurate rekordhouding, kan ons met reg vra of mense selfs presies geweet het hoe oud hulle is. Parkin (2004:13–56) het voorgestel dat die ouderdom van 60 versigtig gebruik moet word as ’n riglyn vir die studie van bejaardheid in die Romeinse samelewing – dié riglyn is waarskynlik die beste wat ons kan gebruik. In hierdie studie word ’n soortgelyke riglyn van 60 jaar aangeneem vir die ontleding van bejaardheid. Daar moet wel in gedagte gehou word dat ’n persoon soms as “oud” beskou is van die ouderdom van 40 jaar af. In Handelinge 3:1–10 lees ons byvoorbeeld van ’n kreupelgebore bedelaar wat deur Petrus en Johannes genees word. In die volgende hoofstuk, na die apostels se ondervraging, word dieselfde man gesien in die skare mense wat God loof. Handelinge 4:21–22 (1983 Afrikaanse Vertaling) lees: “[W]ant al die mense het God geprys oor wat daar gebeur het. Die man wat deur hierdie wonder gesond geword het, was immers al oor die veertig.” Die wonderbaarlike aard van die genesing hou nie net verband met die man se gestremdheid nie, maar ook met die feit dat hy selfs al op 40 as ’n gestremde (en arm) bejaarde man beskou is. Ons sien duidelik ook die interseksie van ouderdom, bejaardheid (as ’n sosiale konstruksie) en gestremdheid in hierdie verhaal.

Figuur 1. Hoof van bejaarde man in ’n hoofbedekking, marmer, middel van die eerste eeu v.C. Rome, Vatikaan-museums.
Foto: Shakko; eie werk, CC BY-SA 3.0, https://commons.wikimedia.org/w/index.php?curid=7310159, verklein en gebruik ingevolge die Creative Commons-lisensievoorwaardes: https://creativecommons.org/licenses/by-sa/4.0/deed.en.

In hierdie artikel sal ek bejaardheid as ’n interseksionele magsdiskoers benader deur die konsep van ouderlinge in die Nuwe Testament te ondersoek, sowel as die Bybelse gebod om vir ’n mens se (bejaarde) ouers te sorg. Dit is die twee hoofarenas waarin bejaardheid as ’n interseksionele magsdiskoers in die Nuwe Testament funksioneer.

Eers gee ek egter ’n kort oorsig van bejaardheid in die Nuwe Testament.

 

2. Bejaardheid in die Nuwe Testament: ’n oorsig

In vergelyking met ander temas het die studie van bejaardheid in die Nuwe Testament beslis nie die aandag gekry wat dit verdien nie. Belangrike aanvanklike en verkennende werk is deur Gnilka (1972; 1977; 1980; 1983; 1995; 2005) gedoen. Eyben (1989:230–51) het ’n nuttige geannoteerde bibliografie oor bejaardheid in die Grieks-Romeinse samelewing en vroeë Christendom opgestel, gevolg deur ’n veel meer uitgebreide bibliografiese studie deur Suder (1991). Carter het ook ’n goeie bibliografiese studie opgestel oor bejaardheid en Nuwe Testamentiese studies. Meer onlangse bibliografiese en oorsigstudies is ook deur Elliot (2003) en Wick (2021) gedoen. Harris (2008) verskaf ’n bruikbare beskrywende ontleding van bejaardheid in die Bybel, maar dit is ongelukkig beperk ten opsigte van die kritiese toepaslikheid daarvan. Verdere merkwaardige studies oor bejaardheid in die Nuwe Testament sluit in: King (2009:59–82), Barclay (2007:225–41), Carter (2001:45–59), Pherigo (1989:75–82), Hauerwas (2003) en Cramer en Wick (2021). Minois (1989) se werk oor bejaardheid in die breë geskiedenis raak aan die vroeë Christendom (maar nie die Nuwe Testament nie), maar die boek het ook ongelukkig sy beperkinge vir wetenskaplike navorsing. Parkin (2004) en Cokayne (2003) se andersins uitstekende werke oor bejaardheid in die Romeinse wêreld bespreek glad nie Nuwe Testamentiese of vroeë Christelike bronne nie.

Hierdie literatuuroorsig is bedoel om illustratief te wees eerder as volledig. Die rede vir die karigheid van navorsing oor die tema is dalk die feit dat die Nuwe Testament self, as primêre bron, nie veel oor bejaardes sê nie. Oupas en oumas word nie werklik in die Nuwe Testament genoem nie, en die paar opdragte aan bejaardes is gewoonlik opdragte wat verband hou met morele gedrag. Die opdragte hou dikwels verband met selfbeheersing en spreek teen die oormatige gebruik van wyn. Hierdie Nuwe Testamentiese opdragte kan dien om sommige van die negatiewe stereotipes en karikature van bejaardes in antieke denke teë te werk, soos dat bejaardes geneig is tot woedeuitbarstings, of kleinsielig of verslaaf aan wyn was. In Titus 2:2–6 lees ons byvoorbeeld dat daar van ouer mans (presbutai) verwag word om nugter te wees, terwyl ouer vroue (presbutides) nie aan te veel wyn verslaaf moet wees nie; beide moet voorbeeldig wees vir die jonger geslag. Die teks (1983 Afrikaanse Vertaling) lees:

Sê vir die ouer mans hulle moet nugter wees, eerbaar, verstandig, gesond en vas in geloof, liefde en volharding. Net so moet jy ook vir die ouer vroue sê hulle gedrag moet dié wees van mense wat ’n heilige lewe lei. Hulle moenie kwaadpraat of aan drank verslaaf wees nie. Hulle moet goeie raad kan gee, sodat hulle die jonger vrouens kan leer om liefdevol teenoor hulle mans en kinders te wees, verstandig en kuis, goeie huisvrouens, onderdanig aan hulle mans. Dan sal die woord van God nie in diskrediet kom nie. Net so moet jy die jonger mans vermaan om hulle verstandig te gedra.

Foucault (1977) se beginsel dat mag op ’n dissiplinêre basis funksioneer, lê ten grondslag aan hierdie teks. Die oomblik dat ons byvoorbeeld van bejaardes na ouderlinge beweeg, is daar, soos ons in die volgende afdeling sal sien, ’n dialektiese dissiplinêre dinamiek in die spel. In hierdie teks word bejaarde mans en vroue gemaan om ’n regverdige, heilige en gedissiplineerde Christelike lewe te lei, met ’n pedagogiese doel. Die habitus van die eerbiedige bejaardes, by wyse van spreke, moet deur die jongmense nagevolg word.4 Sodoende word mag reproduktief en konstruktief. Dit dien om bejaarde en jeugdige liggame te vorm en te dissiplineer. Die gedrag van oud en jonk moet eintlik ’n spieëlbeeld van mekaar bied. ’n Goeie voorbeeld is die vermaning om nie te veel wyn te verbruik nie. Hieragter lê die aanname van die mediese eienskappe van wyn. Wyn het ’n verwarmende effek op die liggaam gehad wat voordelig kon wees vir die oudag. Maar te veel wyn, soos ons hier lees, is veral nie vir jonges aanbeveel nie, aangesien dit nie net tot dronkenskap kan lei nie, maar ook tot ’n ooraktiewe seksdrang (De Wet 2016:502–4). Ons vind soortgelyke dissiplinêre opdragte in 1 Timoteus 5:3–16 in verband met weduwees.

Bejaardheid in antieke mediese denke is dus byna universeel verstaan as ’n tydperk van liggaamlike verkoeling wat verband hou met die seisoen van die winter (De Wet 2016:491–500). Vir mans sou die koue van ouderdom lei tot ’n gebrek aan seksdrang, en vir mans en vroue was hierdie liggaamlike verkoeling verder geassosieer met onvrugbaarheid (Moss en Baden 2015:179–83). ’n Koue bejaarde liggaam was hiervolgens nie in staat om die sperm wat nodig was vir voortplanting, ’n baie belangrike waarde in die Romeinse sedes, te maak nie. ’n Koue baarmoeder was sinoniem met ’n onvrugbare baarmoeder. In Lukas 1:5–24 lees ons van die priester Sagaria en sy vrou, Elisabet, wat die ouers van Johannes die Doper sou word. Sagaria en Elisabet het gesukkel om kinders te hê “omdat Elisabet onvrugbaar was. Buitendien was albei reeds op ver gevorderde leeftyd” (Lukas 1:7; 1983 Afrikaanse Vertaling). Die bevrugting en geboorte van Johannes die Doper is dus amper net so wonderbaarlik soos die maagdelike geboorte. Hierdie vers assosieer die oudag duidelik met steriliteit en onvrugbaarheid, soos ons ook in Ou Testamentiese verhale soos dié van Abraham en Sarai (Gen. 16) waarneem (Levine en Witherington III 2018:32; Reeder 2018:185).

Ons ondersoek nou van naderby hoe bejaardheid as ’n interseksionele magsdiskoers met die konsep van die ouderling in die Nuwe Testament funksioneer.

 

3. Ouderlinge en interseksionele magsdiskoers in die Nuwe Testament

Ten spyte van die gebrek aan studies oor bejaardheid in die Nuwe Testament word daar wel aansienlike aandag aan die leiersposisie van die ouderling in die Nuwe Testament gewy. Ons sien ook heelwat artikels en proefskrifte wat daarop gefokus is om Nuwe Testamentiese beginsels van die ouderlingamp op moderne kerklike kontekste toe te pas (sien byvoorbeeld Fields 2022; Lookabaugh 2022). Belangrike studies oor ouderlinge in die Nuwe Testament sluit die volgende werke in: Campbell (1994); Van Eck (1991:656–84); Mappes (1997b:80–92; 1997c:162–74; 1997a:333–43); Knight (1985:1–12); Grubbs (2005:3–15); McDill (2009); Elliott (2008:681–95); Selby (2012:79–94); Getty (2021:301–7); Van Wingerden (2022:113–26). Die grootste uitdaging wat ons in hierdie verband in die gesig staar, is dat die terminologie wat met bejaardheid en bejaardes verband hou, dikwels oorvleuel en ’n mate van dubbelsinnigheid vertoon. Die term vader (patēr) kan byvoorbeeld ook verwys na ’n sosiogodsdienstige identiteit binne ’n ouer ouderdomsgroep (in Hand. 22:1 byvoorbeeld). Die hoofterm is egter presbuteros/presbutera, wat kan verwys na bejaarde persone in terme van ouderdom of geslag (sien byvoorbeeld Luk. 15:25; Joh. 8:9; 1 Tim. 5:1; dikwels gekontrasteer met neaniskoi, jongmense; sien in hierdie verband veral Barclay 2007:225–41; Bornkamm 1968:651–83). Selfs hier, soos Barclay (2007:235–8) aangetoon het, bring bogenoemde term(e) ouderdom in verband met ideologie. Maar die term kan ook verwys na voorouers of die stamvaders, gewoonlik gekoppel aan die konsep van tradisie (sien byvoorbeeld Matt. 15:2; Mark. 7:3, 5; Heb. 11:2). Tog word die term die meeste gebruik om te verwys na ’n amp of gesag binne ’n godsdienstige gemeenskap, soos ’n Joodse gemeenskap of raad, soos die Sanhedrin (sien Matt. 16:21, 26:3; Mark. 8:31, 11:27, 14:43, 53, 15:1; Luk. 9:22, 20:1; Hand. 4:8), in welke geval die evaluering meer negatief is in die Evangelies. Die term verwys ook na ’n amp in vroeë Christelike gemeenskappe (sien byvoorbeeld Hand. 11:30, 14:23, 15:2, 4, 6; 16:4, 20:17, 21:18; 1 Tim. 5:17, 19; Tit. 1:5; Jak. 5:14; 1 Pet. 5:1, 5). In eersgenoemde geval word die term dikwels saam met ander terme en gesagsampsname gebruik, soos heersers of hoëpriesters of skrifgeleerdes. In laasgenoemde word die term soms saam met die apostels gelys, soos in Handelinge. 1 Petrus 5:1–5 is ’n goeie voorbeeld van die mag van die ouderlinge in vroeë Christelike gemeenskappe – die skrywer bestempel homself as ’n ouderling en vra die ouderlinge van die groep om vir die kudde van God te sorg. In 1 Timoteus 5:17 word die ouderlinge ’n dubbele deel van eer toegeken. Die skrywer van 2 en 3 Johannes verwys na homself as die ouderling, en ons het ook 24 ouderlinge in die hemel rondom God se troon in Openbaring.

Laastens het ons die terme presbutēs/presbutis wat miskien meer formeel en spesifiek verwys na ’n bejaarde manen bejaarde vrou onderskeidelik (soos in Luk. 1:18; Tit. 2:2–3; Flm. 9). Die woord gerōn/gēras (soos in Luk. 1:36; Joh. 3:4, 21:18) verwys gewoonlik na mense wat baie oud is, gewoonlik ouer as 60 jaar. Bejaardes in die Nuwe Testament kan ook beskryf word as “op ver gevorderde leeftyd” (Luk. 1:7, 18; 2:36; 1983 Afrikaanse Vertaling); in Rom. 4:19 beskryf Paulus die bejaarde Abraham as een wie se “liggaam reeds gedaan was” (1983 Afrikaanse Vertaling). Ander vroeg-Christelike werke waarin die tema gereeld voorkom, is 1 Klemens en die Polikarpos-literatuur. Die Grieks-Romeinse samelewing vertoon ook hierdie sosioreligieuse godsdienstige amp van gesag. Of die vroeë Christene eenvoudig hierdie amp by die Judaïsme oorgeneem het, is ’n kwessie van debat onder navorsers.5Nietemin, met sy gebruik van ouderling as ’n term van gesag is die Nuwe Testament baie tuis in die konteks van die antieke Grieks-Romeinse en Judaïstiese samelewing.

Die klem in die Nuwe Testament, en ook in navorsing oor bejaardheid daarin, op ouderlinge eerder as bejaardes in die algemeen stel gerontologie duidelik as ’n magsdiskoers aan die orde. Die konsep van die ouderling (presbuteros) hou natuurlik verband met bejaardes, maar daar moet op gelet word dat hoewel die meeste ouderlinge waarskynlik bejaard was, nie al die bejaardes ouderlinge was nie. Die term/begrip presbuteros dui op leierskap en gesag. In die meeste gevalle beskryf die term in die Nuwe Testament iemand in die leiersposisie van ’n ouderling, maar dit kan ook die ouer persoon beskryf in teenstelling met die jongere. Die feit dat dieselfde term vir albei kategorieë van mense gebruik word, is nie toevallig nie, aangesien dit dikwels die ouer lede van die gemeenskap was wat as ouderlinge gedien het. In 1 Petrus 5:1–5 sien ons duidelik hoe hierdie twee aspekte van presbuteros, naamlik leierskap en ouderdom, oorvleuel. Enersyds word presbuteros beskryf as ’n pastorale amp; andersyds, in vers 5, word jonger lede versoek om hulself aan die presbuteroi te onderwerp (Bornkamm 1968:665–70). Dit verwys dus na die ampsdraers, maar ook na die ouer lede van die gemeenskap aan wie die jonger lede respek moet toon (Lynch 2012:529–40). Ouderling (presbuteros) is dus ’n uitsluitingskategorie, een wat ’n klein groepie, hoofsaaklik vrygebore elitemans, uitsonder van die groter groep bejaardes wat gesag en mag in die Nuwe Testamentiese gemeenskappe gehad het.

Walsh (2019:517–47) redeneer oortuigend vir die teenwoordigheid van vroulike ouderlinge in sommige vroeë Christelike gemeenskappe, spesifiek uit die figuur van die ouer Adellike Vrou in die buite-Bybelse apokaliptiese werk, die Herder van Hermas. Maar sy wys ook deur middel van tekstuele toevoegings tot die manuskrip dat hierdie rol by vroue in Christelike diskoers en gemeenskappe teëgestaan en ondermyn is. Alhoewel sy nie direk na ouderlinge verwys nie, maak Merz (2021:183–90) ’n soortgelyke waarneming oor vroueleiers in die apokriewe Handelinge van Paulus. Selfs onder ouderlinge in die Nuwe Testament sien ons mededinging om mag en posisies, met gepaardgaande praktyke van vervreemding en uitsluiting, soos Walsh opmerk oor vroue-ouderlinge en Merz oor vroueleiers.

Van Eck (1991:663) maak ’n belangrike opmerking in verband met Nuwe Testamentiese ampte as sosiale rolle:

Juis daarom is dit nodig dat daar na die “ampte” in die Nuwe Testament vanuit ’n nuwe hoek gekyk moet word. Ons moet uitgaan van die standpunt dat “ampte” op “leiers” in die vroeë kerk betrekking het. Om ’n “leier” te wees, is om ’n “sosiale status” te beklee, om ’n “sosiale rol” te vervul, en om dus aan ’n “sosiale verwagting” te beantwoord.

Boonop lei die diskoers van ouderlingskap en mag ook in ’n groot mate tot ideologiese binêre spanning, dit wil sê die diskoers van die oues teenoor die jonges, en ouer leiers teenoor jonger leiers. In 1 Timoteus 4:12 (1983 Afrikaanse Vertaling) moedig die skrywer die jonger leier, Timoteus, aan met hierdie woorde: “Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges ’n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid.” Dit blyk duidelik dat daar mags- en leierskapstryde tussen oud en jonk was, met jonger leiers soos Timoteus self wat ’n mate van weerstand en vervreemding ervaar het. Aan die een kant word die oues gesien as wys, gematig, ervare en by verstek respek waardig; nog ander stereotipes kategoriseer hulle as gevestig in hul weë, hardkoppig, eiesinnig en nie geskik vir ’n openbare amp nie. Aan die ander kant word die jongeres weliswaar geassosieer met skoonheid en fisieke krag, maar hulle kan ook gulsig, wulps, oorambisieus en roekeloos wees. Soos Barclay (2007:232) tereg opmerk, sulke stereotipes is nie sosiaal of polities onskuldig nie. Hulle dui op die strukturering van mag, wat regverdiging verskaf vir die ongelyke verspreiding daarvan oor ouderdomsgroepe en geslagte heen.

Ons het wel ander, alternatiewe bejaarde gesagsfigure in die Nuwe Testament, soos Anna, die bejaarde profetes (Luk. 2:36–38), maar die egte Paulusbriewe swyg meestal oor die kwessie van ouderlinge en ouderdomsgebaseerde leierskap in Christelike gemeenskappe. By Paulus lees ons hoofsaaklik van apostels, profete en leraars (1 Kor. 12:28), maar of hulle “ampte” in die streng sin van die woord is, is nie seker nie (Van Eck 1991:657–8). Hierdie stilswye impliseer nie dat daar nie ouer leiers in die Pauliniese kerke was nie; ons hoor net nie van hulle nie. Die belangrikste beginsel uit hierdie bespreking bly egter die feit dat die gebruik van die kategorie ouderlinge, as magsposisie, om bejaardheid as magsdiskoers in die Nuwe Testament te verstaan, altyd refleksief en dialekties moet wees. ’n Ontleding van bejaardes in magsposisies behoort nie die magtelose bejaardes uit te sluit nie, maar behoort hulle meer na vore te bring as die onsigbare en stemlose bejaardes agter die teks.

 

4. Bejaarde ouers en bejaardesorg in die Nuwe Testament

Ons sien verder die dinamika van ouderdom as ’n magsdiskoers in die Nuwe Testament wanneer ons die rol van bejaardes as ouers, vaders en moeders, oupas en oumas in ag neem. Die vyfde gebod, om ’n mens se vader en moeder te eer (Eks. 20:12; Deut. 5:16), word aangehaal uit die Septuaginta in die Nuwe Testament in die huisreëls van Efesiërs 6:2–3. Verskeie studies het aangevoer dat die gebod nie soseer (slegs) aan jong kinders gerig is nie, maar aan volwasse kinders in huishoudings met verskeie geslagte.6 Carter (2001:45–50) voer aan dat die gebod geïnterpreteer kan word as ’n opdrag vir bejaardesorg in die antieke huishouding en selfs breër in die samelewing. Gnilka (1983:995–1094) het aangevoer dat die vroeë Christendom meestal positief ingestel was teenoor bejaardheid as gevolg van die verband tussen ouderdom en wysheid, en hy wys daarop dat die versorging van bejaardes, veral arm bejaardes, die kern van vroeë Christelike praktyke van vroomheid was. Hierdie opdrag kom beslis ook in ander Joodse literatuur van daardie tydperk voor. Daarom het ons die Nuwe Testamentiese huisreëls wat gehoorsaamheid van kinders aan hul ouers vereis, tesame met respek en liefde tussen man en vrou, en gesagsuitoefening en onderdanigheid tussen heer en slaaf respektiewelik (Ef. 5:22–6:9; Kol. 3:18–4:1). In 1 Timoteus 5:1 word gelowiges aangesê om ouer mans as vaders en ouer vroue as moeders te behandel. 1 Timoteus 5:3–16 gee ook spesifieke riglyne vir die versorging en gedrag van weduwees, beide jonk en bejaard. Volgens 5:9 moet weduwees van 60 jaar en ouer op die kerk se lys geplaas word vir ondersteuning.

Ons het wel vroeëre tradisies wat nie so positief oor die familie is as wat ons in die effens later Christelike briewe sien nie. Martin (2006:111–6) redeneer dat die egte Paulusbriewe beslis nie so positief teenoor die familie (en huwelik) ingestel is nie, terwyl werke soos Efesiërs en Kolossense ’n Paulus verteenwoordig wat meer positief teenoor familie was. In die Evangelies het ons ook tekste wat gesinsverantwoordelikheid tweede plaas. Carter (2001:55) merk op dat terwyl Matteus nie die gebod om vir ’n mens se ouers te sorg omverwerp nie (15:3–9; 19:19), hy ’n nuwe gemeenskap veronderstel waarin die plig van volwasse kinders teenoor hul ouers nie die hoogste waarde is nie.

Opdragte in die Nuwe Testament om vir bejaardes in ’n mens se familie en gemeenskap te sorg is sonder twyfel ’n positiewe ontwikkeling tot die verbetering van die lewenskwaliteit van bejaardes. Ons moet egter nie die feit uit die oog verloor nie dat al hierdie bevele funksioneer binne die breër patriargale stelsels wat in die antieke kultuur ingebed is. Merz (2021:173–94) se belangrike studie oor gender en mag, veral in die Pastorale Briewe, dui presies aan dat ons nooit mag in die Nuwe Testament buite genderkonstruksies kan verstaan nie. In die huisreëls is daar ’n spesifieke en duidelike fokus op die manlike paterfamilias en sy verskillende rolle in verhouding tot huislede. Van Eck (1991:671–2) en Elliott (2003:77–82) meen tereg dat ons die paterfamilias, die hoof van die huishouding, ook as ’n “amp” moet verstaan in die Nuwe Testament. Dit maak die ondersoek na bejaardheid, ouderlingskap en mag selfs meer ingewikkeld. Dit beteken dat ’n elite- vrygebore bejaarde man verskeie vlakke van mag kan beklee. Hy kan ’n “amp” hê as ouderling sowel as paterfamilias, en dié twee posisies raak dan bykans onmoontlik om konseptueel van mekaar te skei. Die fokus op ouers en vaders kan ook dien om nie net vroue uit te sluit nie, maar, meer algemeen, persone wat nie kinders kon hê nie. Slawe word ook in hierdie diskoers uitgesluit, aangesien hulle nie altyd as ouers in die juridiese en sosiale sin van die woord beskou is nie. Slawe se kinders kon enige oomblik verkoop word. Soos met die kategorie van ouderlinge, hou die plig van ouersorg en bejaardesorg in die Bybel, as nog ’n gerontologiese magsdiskoers, voordele vir slegs sommige bejaardes in, maar selfs hierdie diskoers kan tot meer vervreemding en uitsluiting van ander groepe lei. Die interseksionele benadering help ons dus om hierdie probleem te verstaan.

’n Goeie voorbeeld van die kompleksiteit van die versorging van bejaardes word gevind in Filemon vers 9, een van die min reëls in die egte Paulusbriewe waar gesag spesifiek aan ouderdom gekoppel word. ’n Ontleding van die teks sal wys hoe problematies die versorging van bejaardes kon gewees het. In Filemon verse 8–13 (1983 Afrikaanse Vertaling) lees ons die volgende:

Daarom, al het ek in Christus die volste reg om jou op jou plig te wys, doen ek liewer ’n beroep op jou op grond van die liefde. Dit doen ek, Paulus, wat ’n ou man [presbutês] is en nou ook ’n gevangene ter wille van Christus Jesus. Ek doen ’n beroep op jou in belang van my kind Onesimus. Hier in die gevangenis het ek sy geestelike vader geword. Voorheen was hy vir jou nie bruikbaar nie, maar nou is hy baie bruikbaar sowel vir jou as vir my. Ek stuur hom na jou toe terug, en my hart gaan saam met hom. Wat my betref, ek sou hom graag by my wou hou, sodat hy my in jou plek kan dien terwyl ek ter wille van die evangelie ’n gevangene is.

In die breër konteks van die brief sien ons hoe Paulus by Filemon pleit namens Onesimus, ’n slaaf, wat sy heer om onbekende redes verlaat het. Die interseksionaliteit van die teks is kompleks en veelvuldig. Eerstens het ons vir Paulus. In hierdie teks is hy ’n gevangene en onderworpe aan die vervreemding en uitsluiting wat aan hierdie posisie verbonde is. Maar hy noem homself ook ’n presbutês, ’n ou man. Die navorsingsgeskiedenis oor vers 9 en die term presbutês is ’n treffende illustrasie van die diskursiewe uitsluiting en vervreemding van bejaardes in Nuwe Testamentiese studie. Meer as ’n eeu gelede het Lightfoot (1875:337) aangevoer dat presbutês hier nie as “ou man” of selfs “ouderling” vertaal moet word nie, maar eerder “ambassadeur”, wat ook ’n vertaalmoontlikheid vir die woord is. Daar is talle argumente, leksikaal, eksegeties en sosiaal-wetenskaplik, vir en teen hierdie vertaling.7 Hock (1995:67–81) het oortuigend geargumenteer teen hierdie leksikale uitwissing van bejaardes in die teks en toon aan dat presbutês hier gelees moet word as “ou man”, en die Afrikaanse Bybelvertaling van 1953, 1983 en 2020 volg die konvensie. Ons het dus ’n bejaarde gevangene in die persoon van Paulus. Dit is verder moontlik dat Paulus ook ’n kinderlose bejaarde was, as ons sy woorde oor sy selibaatheid in 1 Korintiërs 7:7 ernstig opneem. Paulus gebruik sy kwesbaarheid en vervreemding, eienskappe verwant aan bejaardheid as interseksionele magsdiskoers, tot sy eie voordeel. Dan is daar Onesimus, waarskynlik jonger as Paulus, wat ook ’n gevangene is in die sin dat hy ’n slaaf is en aan Paulus die gevangene verbind word. Paulus gebruik sy bejaardheid, blyk dit, as ’n retoriese tegniek om Filemon te oorreed om Onesimus toe te laat om Paulus te bedien. Paul is tegnies beide ’n ouderling en ’n bejaarde. In hierdie geval neem Onesimus die rol van ’n surrogaatliggaam van ’n kind aan met Paulus as vader; surrogaatskap was ’n primêre funksie van slawe in die antieke wêreld (Glancy 2006:15–6).

Die vyfde gebod, om ouers te eer, is ongetwyfeld implisiet in hierdie versoek dat ’n slawekind na sy bejaarde meester-vader moet omsien. Dié geval illustreer egter die feit dat die versorging van bejaardes die gebruik van slawe (en moontlik vroulike lede van die huishouding) sou impliseer. Dus, terwyl die opdrag in die Nuwe Testament om vir bejaardes te sorg, en die vyfde gebod oor die algemeen, beskou kan word as eties en sosiaal voordelig vir bejaardes, het ons steeds die probleem dat hierdie sorg onlosmaaklik in patriargale stelsels van mag ingebed is. Dit beteken dat bejaardheid as magsdiskoers in hierdie geval selfs meer mense kan onderdruk en selfs die praktyk van slawerny kan onderhou.

 

5. Gevolgtrekking

Om hierdie verkenning van bejaardheid as interseksionele magsdiskoers in die Nuwe Testament af te sluit: Ons het gesien dat bejaardes op talle vlakke van mag ontneem was en ook mag toegeskryf was. Daar is beslis positiewe ontwikkelinge in die Nuwe Testament om bejaardes in te sluit, soos die versorging van weduwees en verarmde bejaardes, en die toon van respek aan en voorsiening van sorg vir bejaarde ouers en familie. Maar selfs hierdie positiewe aspekte van Nuwe Testamentiese gerontologie kan nie geskei word van die patriargale stelsels waarin hulle ingebed is nie. Hierdie kompleksiteit word goed verwesenlik in die figuur van die apostel Paulus as ’n bejaarde en kwesbare gevangene, dalk kinderloos (wat hom moontlik ontneem het van familiesorg), wat desperaat die sorg en geselskap van ’n slaaf as ’n kind soek. Interseksionaliteit het ons gehelp om te sien dat die insluiting en bemagtiging van sommige bejaarde persone ook tot verdere ontmagtiging van ander bejaardes sowel as persone van ander groepe, soos vroue en slawe, kon lei. Om bejaardheid verder as ’n interseksionele magsdiskoers te bestudeer en te benader kan ons help om ’n meer inklusiewe model van ouderdom te rekonstrueer vir die benadering tot bejaardes in die Nuwe Testament en vandag. In die voorwoord van hul boek oor mag in die Nuwe Testament maak De Villiers en Merz (2021:xi) ’n baie belangrike opmerking in hierdie verband:

In their power language, religious texts have the potential to transform and inspire, but such language can also have destructive consequences and outcomes when it takes on a negative and life-destroying nature. At the same time, the danger of power becoming abusive and corrupt requires from all actors in relationships to understand that it is positive only when it is used to serve others. Given the central role of religion in contemporary contexts, all this confirms the urgent need to reflect in more depth on the notion of power and its use in formative religious settings.8

Wat het hierdie studie oor bejaardheid as ’n interseksionele magsdiskoers ons geleer oor magsdinamika in die Nuwe Testament oor die algemeen? Nadat ons Van Henten se voorstel opgevolg het om magsnetwerke en akteurs in hierdie netwerke verder te ontleed, kan ons tot die gevolgtrekking kom dat magsnetwerke op sigself op ’n interseksionele wyse funksioneer. Hierdie netwerke is sosiaal en kultureel kompleks, en hulle dien altyd om sommige in te sluit en ander uit te sluit. Ons moet versigtig wees om nie aan te neem dat die akteurs wat sigbaar in tekste uitgebeeld word, die hele netwerk uitmaak nie. In die geval van die Nuwe Testament is magsnetwerke eerder ingebed in die breër patriargale sosiokulturele sisteem, en die waardes en beginsels van patriargalisme struktureer ook die netwerke en reguleer die akteurs in hierdie netwerke. Dit was die geval vir bejaardes, hetsy ouderlinge of ouers, asook die geval vir vroue, slawe, en ook etniese buitestanders. Om magsdinamika in die Nuwe Testament werklik te verstaan, moet ons dus deeglik bewus wees van die onsigbare of minder sigbare lae van die magsnetwerke en bemagtigde of magtelose akteurs in daardie lae.

 

Bibliografie

Barclay, J.M.G. 2007. There is neither old nor young? Early Christianity and ancient ideologies of age. New Testament Studies, 53:225–41.

Bornkamm, G. 1959. Πρέσβυς; πρεσβύτερος; πρεσβύτης; συμπρεσβύτερος, πρεσβυτέριον; πρεσβεύω. In Kittel en Friedrich (reds.) 1959.

Bourdieu, P. 1990. The logic of practice. Vertaal deur R. Nice. Cambridge: Polity.

Campbell, R.A. 1994. The elders: Seniority within earliest Christianity. Edinburgh: T & T Clark.

Carter, W. 2001. Adult children and elderly parents: The worlds of the New Testament. Journal of Religious Gerontology, 12:45–59.

Cokayne, K. 2003. Experiencing old age in ancient Rome. Londen: Routledge.

Cramer, M. en P. Wick (reds.). 2021. Alter und Altern in der Bibel: exegetische Perspektiven auf Altersdiskurse im Alten und Neuen Testament. Stuttgart: Kohlhammer.

Crenshaw, K.W. 1989. Demarginalizing the intersection of race and sex: a black feminist critique of antidiscrimination doctrine, feminist theory and antiracist politics. University of Chicago Legal Forum, 140:139–67.

—. 1991. Mapping the margins: intersectionality, identity politics, and violence against women of color. Stanford Law Review, 43:1241–99.

De Beauvoir, S. 1970. La vieillesse. Parys: Gallimard.

—. 1972. The coming of age. Vertaal deur P. O’Brian. Londen: André Deutsch, Weidenfeld and Nicolson.

De Villiers, P.G.R. en A.B. Merz. 2021. Preface. In De Villiers en Merz (reds.) 2021.

De Villiers, P.G.R. en A.B. Merz (reds.). 2021. Power in the New Testament. Leuven: Peeters.

De Wet, C.L. 2016. Grumpy old men? Gender, gerontology, and the geriatrics of soul in John Chrysostom. Journal of Early Christian Studies, 24:491–521.

—. 2018. Bejaardheid en asketisme in die vroeë Christendom: ’n Vergelyking tussen die sienswyses van Johannes Chrusostomos en Filoksenos van Mabboeg. LitNet Akademies, 15(3):747–68.

Dummer, J. en M. Vielberg (reds.). 2005. Zwischen Historiographie und Hagiographie: Ausgewählte Beiträge zur Erforschung der Spätantike. Wiesbaden: Franz Steiner.

Ehrensperger, Kathy. 2007. Paul and the dynamics of power communication and interaction in the Early Christ-Movement. Londen, New York: T & T Clark.

Elliott, J.H. 2003. Elders as honored household heads and not holders of “office” in earliest Christianity. Biblical Theology Bulletin, 33:77–82.

—. 2008. Elders as leaders in 1 Peter and the early church. HTS Teologiese Studies/Theological Studies, 64:681–95.

Eyben, E. 1989. Old age in Greco-Roman antiquity and early Christianity: an annotated select bibliography. In Falkner en De Luce (reds.) 1989.

Falkner, T.M. en J. De Luce (reds.). 1989. Old age in Greek and Latin literature. Albany, NY: SUNY Press.

Fields, B. 2022. An equipping strategy to prepare the elders of Jefferson Avenue Baptist Church for the appointment of future elders. DMin-proefskrif, Midwestern Baptist Theological Seminary.

Foucault, M. 1977. Discipline & punish: the birth of the prison. Vertaal deur A. Sheridan. New York: Vintage.

Getty, M.A. 2021. Elders and widows. Bible Today, 59:301–7.

Gilleard, C. 2022. Aging as otherness: revisiting Simone de Beauvoir’s Old age. Gerontologist, 62:286–92.

Glancy, J.A. 2006. Slavery in early Christianity. Minneapolis: Fortress.

Gnilka, C. 1972. Aetas spiritualis: Die Überwindung der natürlichen Altersstufen als Ideal frühchristlichen Lebens. Bonn: Hanstein.

—. 1977. Neues Alter, neues Leben: Eine antike Weisheit und ihre christliche Nutzung. Jahrbuch für Antike und Christentum, 20:5–38.

—. 1980. Kαλόγηρος: Die Idee des “guten Alters” bei den Christen. Jahrbuch für Antike und Christentum, 23:5–21.

—. 1983. Griesenalter. Reallexikon für Antike und Christentum, 12:995–1094.

—. 1995. Das puer senex-Ideal und die Kirchenbauten zu Nola. Boreas, 18:175–84.

—. 2005. Das “gute Alter”: Ein Leitbild des frühen Christentums. In Dummer en Vielberg (reds.) 2005.

Grubbs, N.C. 2005. The truth about elders and their children: Believing or behaving in Titus 1:6? Faith and Mission, 22:3–15.

Harris, J.G. 2008. Biblical perspectives on aging: God and the elderly. New York: Haworth Pastoral.

Hauerwas, S. (red.). 2003. Growing old in Christ. Grand Rapids, MI: Eerdmans.

Hock, R.F. 1995. A support for his old age: Paul’s plea on behalf of Onesimus. In White en Yarbrough (reds.) 1995.

Kartzow, M.B. 2010. “Asking the other question”: an intersectional approach to Galatians 3:28 and the Colossian household codes. Biblical Interpretation, 18:364–89.

—. 2012. Destabilizing the margins: An intersectional approach to early Christian memory. Eugene, OR: Wipf & Stock.

King, K.L. 2009. “In your midst as a child” – “In the form of an old man”. Images of aging and immortality in ancient Christianity. In Seim en Økland (reds.) 2009.

Kittel, G. en G. Friedrich (reds). 1959. Theologisches Wörterbuch zum Neuen Testament, Band VI. Stuttgart: Kohlhammer.

Knight, G.W. 1985. Two offices (elders/bishops and deacons) and two orders of elders (preaching/teaching elders and ruling elders): a New Testament study. Presbyterion, 11:1–12.

Levine, A.-J. en B. Witherington III. 2018. The Gospel of Luke. Cambridge: Cambridge University Press.

Lightfoot, J.B. 1875. St. Paul’s Epistles to the Colossians and Philemon. Londen: Macmillan.

Lookabaugh, J.H. 2022. Conflict management among church elders: a Delphi study. DEd-proefskrif, Southern Baptist Theological Seminary.

Lynch, C. 2012. In 1 Peter 5:1–5, who are the πρϵσβύτϵροι and what is said about their role? Expository Times, 123(11):529–40.

Mappes, D.A. 1997a. The “elder” in the Old and New Testaments. Bibliotheca Sacra, 154:80–92.

—. 1997b. The New Testament elder, overseer, and pastor. Bibliotheca Sacra, 154:162–74.

—. 1997c. The discipline of a sinning elder. Bibliotheca Sacra, 154:333–43.

Martin, D.B. 2006. Sex and the single savior: Gender and sexuality in biblical interpretation. Louisville, KY: Westminster John Knox.

McDill, M.D. 2009. The authority of church elders in the New Testament. PhD-proefskrif, Southeastern Baptist Theological Seminary.

Merz, A.B. 2021. Gendered power and the power of genre in the debate about women’s roles in the Pastoral Letters and the Acts of Paul. In De Villiers en Merz (reds.) 2021.

Minois, G. 1989. History of old age: From antiquity to the Renaissance. Vertaal deur S. Hanbury Tenison. Cambridge: Polity.

Moss, C.R. en J.S. Baden. 2015. Reconceiving infertility: Biblical perspectives on procreation and childlessness. Princeton: Princeton University Press.

Parkin, T.G. 2004. Old age in the Roman world: a cultural and social history. Baltimore, MD: Johns Hopkins University Press.

Payne, B. en E.D.C. Brewer (reds.). 1989. Gerontology in theological education: local program development. Abingdon: Routledge.

Pherigo, L.P. 1989. Gerontology and the New Testament. In Payne en Brewer (reds.) 1989.

Reeder, C.A. 2018. Gendering war and peace in the Gospel of Luke. Cambridge: Cambridge University Press.

Seim, T.K. en J. Økland (reds.). 2009. Metamorphoses: resurrection, body and transformative practices in early Christianity. Berlin: De Gruyter.

Selby, A.M. 2012. Bishops, elders, and deacons in the Philippian church: evidence of plurality from Paul and Polycarp. Perspectives in Religious Studies, 39:79–94.

Suder, W. 1991. Geras: old age in Greco-Roman antiquity. A classified bibliography. Wrocław: Profil.

Van Eck, E. 1991. ’n Sosiaal-wetenskaplike ondersoek na die “amp” van die ouderling in die Nuwe Testament. HTS Teologiese Studies/Theological Studies, 47:656–84.

Van Henten, J.W. 2021. Perspectives on power and the New Testament. In De Villiers en Merz (reds.) 2021.

Van Wingerden, R. 2022. A portrait of the elder in Third John’s fabula. Biblische Notizen, 195:113–26.

Walsh, L. 2019. The Lady as elder in the Shepherd of Hermas. Journal of Early Christian Studies, 27:517–47.

White, L.M. en O.L. Yarbrough (reds.). 1995. The social world of the first Christians: essays in honor of Wayne A. Meeks. Minneapolis: Fortress.

Wick, P. 2021. Alte und Älteste in der neutestamentlichen Literatur. Eine Übersicht. In Cramer en Wick (reds.) 2021.

 

Eindnotas

1 My eie vertaling uit die Frans: “... s’attachent à montrer dans le vieillard un autre. ... À 20 ans, à 40 ans, me penser vieille, c’est me penser autre. Il y a quelque chose d’effrayant dans toute métamorphose.”

2 Gerontologie verwys in hierdie artikel nie soseer na die studie van bejaardheid nie, maar na bejaardheid as ’n diskoers. Ek gebruik die begrip in sy beperkte sin om die konstruktiewe diskursiwiteit van bejaardheid aan te dui. Gerontologie demonstreer dat ouderdom nie bloot ’n toestand van bestaan is nie, maar ’n diskursiewe formasie wat die samelewing struktureer en liggame in so ’n samelewing reguleer. Vir ’n soortgelyke gebruik van die begrip, sien De Wet (2018) en King (2009).

3 Vir die toepassing van interseksionaliteit in die Nuwe Testament, sien Kartzow (2010; 2012).

4 Aangaande habitus, sien Bourdieu (1990).

5 Dit is ’n oorheersende tema in byvoorbeeld Campbell (1994) se studie.

6 Sien Carter (2001) se bibliografie in hierdie verband.

7 Hock (1995:67–81) verskaf ’n nuttige oorsig oor die argumente vir en teen Lightfoot se voorstel.

8 My beklemtoning.

 

  • Die foto deur Danie Franco wat as fokusprent van hierdie artikel gebruik word, is verkry op Unsplash.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Bejaardheid as interseksionele magsdiskoers: Die konsepte van ouderlinge en bejaarde ouerskap en bejaardesorg in die Nuwe Testament appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 769

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>