Quantcast
Viewing all articles
Browse latest Browse all 795

Wat beteken dit om volgens Kolossense 3:10 vernuwe te word "in kennis na die beeld van sy Skepper"?

Wat beteken dit om volgens Kolossense 3:10 vernuwe te word “in kennis na die beeld van sy Skepper”?

Jan G van der Watt, Departement Ou- en Nuwe-Testamentiese Studies, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 20(1)
ISSN 1995-5928
https://doi.org/10.56273/1995-5928/2022/j20n1c2

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Kolossense 3:10 is ’n sleutelteks in Paulus se brief aan die Kolossense. Dit fokus op die vernuwing van die “nuwe mens/self” in kennis volgens die beeld van sy Skepper. Dit roep verskeie vrae op, byvoorbeeld: Wat beteken dit om vernuwe te word? Waarna verwys kennis hier? Wie is die beeld van die Skepper en na wie verwys die Skepper – na die Vader of Seun? Kennis is ’n sleutelbegrip in Kolossense, waar ware kennis met kennis van menslike oorsprong gekontrasteer word. Ware kennis, wat ’n goddelike oorsprong het, word verchristologiseer. Jesus is die misterie van God wat deur die verkondiging van die evangelie ware kennis kom openbaar. Die volheid en rykdom van God se kennis is in Hom te vinde. Hierdie kennis kan egter nie van gepaardgaande optrede geskei word nie. In 1:9–10 word die besit van die kennis verbind aan optrede wat op grond daarvan ontstaan. Hierdie positiewe optrede sorg egter vir toename (groei) in die kennis wat weer tot meer vrug in goeie werke lei. Hierdie sikliese proses van kennis wat tot dade lei wat weer tot groei in kennis aanleiding gee sodat meer goeie dade daaruit voortkom, dien as konseptuele agtergrond vir 3:10. Die kennis word, volgens 3:10, vernuwe. Dit beteken egter nie dat alle voorafgaande kennis vervang word nie, maar dat ekstra kennis by bestaande positiewe toegevoeg word, soos wat 1:9–10 ook veronderstel. Hierdie vermeerdering van kennis geskied volgens die voorbeeld van die “beeld van die Skepper”, wat volgens 1:15 na Jesus Christus verwys. Hy dien as die voorbeeld vir die gedrag van gelowiges. Gelowiges moet alles in sy naam doen, sodat Hy “alles en in almal” kan wees (3:11). Kolossense 3:9-11, waar na die vernuwing verwys word, word juis omsirkel deur verwysings na die aflegging van negatiewe dade (3:5–9) en die nastrewe van positiewe gedrag (3:12–4:2). Op dié wyse sal Christus alles en in almal wees; met ander woorde, die “nuwe mens/self” sal vernuwe wees na die beeld van die Skepper.

Trefwoorde: Beeld van God; etiek; geestelike groei; Kolossense 3:10; vernuwe na kennis

 

Abstract

What does it mean to be renewed “in knowledge after the image of (the) Creator” in Colossians 3:10?

As a key text in Colossians, the statement in Colossians 3:10 focuses on the renewal of the “new man/self” in knowledge according to the image of its/his Creator. This statement touches on several issues that are discussed in this article – for instance, what does knowledge refers to? Who serves as reference for his Creator: God the Father or Jesus Christ? What exactly is meant by renewal: starting all over again or growth? Are there any indications in the text of what this renewal looks like or what Paul could have intended? How does this statement fit theologically with the rest of the material in the letter? These issues are treated systematically, suggesting that if the statement is read within the context of the rest of the letter to the Colossians, some clarity might be reached.

The complex nature of the concept of knowledge in the letter is first discussed. It is pointed out that true knowledge is contrasted with knowledge of human origin. This true knowledge is revealed by and through Jesus Christ, who is the mystery of God and has all the riches of knowledge. This knowledge is Christologically determined, as is described in the rest of the letter where, for instance, Christ is the image of God who creates and recreates; is the mystery of God who reveals the richness of knowledge; has the fullness of God, which in Him is shared with believers; is the One in and with whom believers have eternal life, which should be practically lived in this world; is the Lord in whose name everything should be done; and so on. By being firmly grounded in Christ, a believer is also exposed to this knowledge that was conveyed through the gospel. Two important aspects of this knowledge are pointed out, namely, that this knowledge is aligned with covenantal knowledge where knowledge is always expressed in obedient activity. Accordingly, knowledge in Colossians leads to proper actions that satisfy the Lord. Acting according to this knowledge leads to growth in knowledge, leading to a circular process of growing in knowledge by acting correctly, while newly acquired knowledge again leads to more fruitful actions (cf. 1:9–10).

In 3:10 renewal in knowledge does not refer to forgetting what is known and being renewed in totally new knowledge, as some dictionaries would like to suggest. It is, rather, a process of gaining additional knowledge that increases the positive knowledge already known. It is a process of growth rather than replacement. This is also what is suggested in 1:9–10.

Renewal in knowledge must take place “after (kata) the image of its/his/her Creator”. The Greek word kata (the image of its Creator) indicates that the renewal in knowledge should take place “according to” the image of the Creator; that means, with the image of the Creator as example. The question is, however, to whom “Creator” refers. If it refers to God as Creator, based on Genesis 1:26–7, (as several commentators suggest) the context of the Genesis creation narrative would be the primary framework for interpreting the renewal according to the Creator. This would suggest that believers should be renewed according to their original image, as they were created by God. This would then fit with the dogmatic view of the renewal of the image of people according to their original image, created by God. This view is, however, problematic, not least because what exactly is implied by image of God (even in Genesis and throughout the history of interpretation) is not abundantly clear and there is no further indication in Colossians that the reference should be to Genesis.

However, in 1:15 there is direct reference to the image of God, namely, to the Son, Jesus Christ. He is described as the image of God, since He creates, sustains and recreates (1:15–20). It seems plausible that 3:10 refers back to 1:15, where there is a direct reference Jesus Christ as Creator and also as image. In this case it implies that believers should be renewed in their knowledge of Jesus Christ. This explanation is heavily supported in the rest of the letter, where Jesus Christ is described as the source of knowledge and serves as the One who saves and sustains believers. In the next verse (3:11) the way in which the perspective on reality is changed is described in Christological terms. Reality should no longer be evaluated according to earthly divisions like slaves or free men, men or woman, Greeks or non-Greeks, but only one perspective should determine the perspective on reality, namely that Jesus is all and in all. If believers are renewed in knowledge according to their Creator Jesus Christ, this perspective will be realised. The realisation will take place on the ethical level, based on their change in identity. They are raised with Christ to eternal life (2:11–3) and should live according to their new status in Christ (2:20 and 3:1). This renewal relates to ethical behaviour (cf. 1:9–10). The expression that they should be renewed (3:9–11) is encircled with ethical remarks: In 3:3–9 believers are encouraged to lay down (kill) evil behaviour, while in 3:12–4:2 positive ethical behaviour is described as the desired way of life for the holy ones chosen by God (3:12). The image of clothing is used: They have undressed the “old self” i.e., got rid of evil behaviour, and dressed themselves as the “new self”, which suggests Christ as example. Now they should live their new lives, being renewed in knowledge of their Creator.

To be renewed in knowledge according to the image of his/her Creator implies that believers should increase in their knowledge of the revelation and presence of Jesus Christ, according to who He is. In this way their behaviour will increasingly reflect the actions and behaviour that are according to God’s will (1:9–10) and done in the name of Jesus Christ (3:17).

Keywords: Colossians 3:10; ethics; image of God; renewal of knowledge; spiritual growth

 

1. Inleiding

Kolossense 3:10 is ’n sleutelstelling in die Brief aan die Kolossense1 (vgl. Wolter 1993:180) en lees as volg: “En julle (het) jul met die nuwe mens (τὸν νέον) beklee (ἐνδυσάμενοι) wat vernuwe word (τὸν ἀνακαινούμενον) tot kennis (εἰς ἐπίγνωσιν) na die beeld van sy Skepper (κατʼ εἰκόνα τοῦ κτίσαντος αὐτόν.” Hierdie stelling is uniek in die Nuwe Testament en roep vanuit eksegetiese hoek verskeie vrae op, byvoorbeeld: Na wie word verwys as daar van die Skepper gepraat word, na die Vader of die Seun? Wat behels die vernuwing en waarna verwys kennis? Hoe hang die twee aspekte saam as dit om vernuwing gaan, naamlik die vernuwing tot kennis (εἰς ἐπίγνωσιν) en die vernuwing volgens (κατά) of na die beeld van die Skepper?

In wat volg, gaan daar op veral twee sentrale aspekte van die stelling in 3:10 gefokus word, naamlik (i) die betekenis van die vernuwing tot kennis en (ii) die vernuwing na die beeld van die Skepper.

 

2. Word vernuwe na kennis

Kolossense 3:9–10 sit die etiese argumente wat van 3:5 af gevoer word, voort met ’n uitspraak oor die identiteit en status van die gelowiges. In 3:9 word ’n tipiese2 antieke beeld van “aan- en uittrek”3 gebruik om die verandering in status van gelowiges wat tot verandering in etiese optrede lei, aan te dui: “Julle (het) jul met die ‘nuwe mens’ (τὸν νέον) beklee (ἐνδυσάμενοι – aoristus partisipium)”, aangesien hulle die “ou mens met sy werke” ontklee het (ἀπεκδυσάμενοι [ook ’n aoristus partisipium]4 τὸν παλαιὸν ἄνθρωπον σὺν ταῖς πράξεσιν αὐτοῦ). Hierdie proses van “ontklee en beklee” eggo die beskrywings in 2:9–15 (vgl. ook 2:20, 3:1), waar die gelowiges deur die doop saam met Christus opgewek is en aan die nuwe lewe saam met Christus nou deel het. Dit gaan dus oor die tydstip (van bekering) waar die “ou mens” dood en begrawe is, en die “nuwe mens” saam met Christus opgewek is. Hierdie patroon van om ontslae te raak van die negatiewe en aan die positiewe gestalte te gee, word ook in die res van die brief aangetref (2:20, 3:1–17).

As gevolg van hierdie nuwe identiteit word daar nou in 3:10 vereistes gestel vir gelowiges se huidige asook toekomstige lewenstyl (3:10). Hierdie lewenstyl is ’n voortgaande uitdrukking van hulle nuutverworwe status in Christus.

Die eerste vereiste is dat gelowiges “vernuwe word (τὸν ἀνακαινούμενον – teenswoordige partisipium) tot kennis (εἰς ἐπίγνωσιν)”. Die volgende vrae is hier van belang: (i) Is die vernuwing afgehandel of is dit ’n voortgaande proses? (ii) Wat beteken vernuwing in hierdie konteks? (iii) Wat presies behels die kennis waarna verwys word?

Die teenswoordige tyd van die partisipium (ἀνακαινούμενον) in 3:10 veronderstel dat dit in 3:10 gaan om ’n voortgaande proses in die lewe van gelowiges, met ander woorde om ’n voortgaande lewenstyl wat volg op die aanvaarding van Christus, die daaropvolgende identiteitsverandering wat in die doop bevestig is (2:12).5 Dunn (1996:221) bevestig dat “the aorist event of the conversion-initiation past is qualified by an ongoing present: the new self is in process of being renewed (ἀνακαινούμενον), ‘constantly being renewed’ (REB).” Moo (2008:269; vgl. ook O’Brien 1982:190) deel hierdie siening: “The present durative force of the verb (a present participle in Greek) makes clear that the ‘new self’, the new reality ruled by Christ, is not in its final state: it is in a state of ‘becoming’.”6

Die vernuwingsproses word sintakties verbind met εἰς ἐπίγνωσιν, waar εἰς dien as “marker of a specific point of reference, for, to, with respect to, with reference to” (Arndt e.a. 2000:291). Hierdie vernuwing in kennis verwys meer na die doel van die vernuwing as na die middele tot vernuwing (vgl. Moo 2008:269). Daar word ’n konstante positiewe verandering “in / met verwysing na / ten opsigte van” (εἰς) kennis veronderstel.

Waarna verwys “kennis” in Kolossense? Kennis as konsep was sentraal belangrik in die antieke tyd en moontlikhede sluit van tipiese Joodse kennis tot by Grieks-Romeinse filosofiese kennis in, en in die tyd van die Nuwe Testament nog kennis rondom byvoorbeeld misterieë of ook rigtings soos die vroeë Gnostiek.

Kennis in Kolossense staan inderdaad sentraal en daar word veral na twee kontrasterende tipes kennis verwys, wat elk ’n ander bron van oorsprong het, naamlik kennis wat menslik van aard is en kennis van God se misterie, wat Christologies van aard is. Gelowiges word gewaarsku dat die filosofieë en mensgemaakte kennis gelowiges van die ware kennis wat Christus bring, kan ontneem (Lohse 1971:30 en Wolter 1993:60), soos Paulus in 2:8 sê: “Pas op dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie. Dit is dinge wat berus op die oorlewering van mense, op wettiese godsdienstige reëls en nie op Christus nie.” Dit het inderdaad “’n skyn van wysheid met hulle selfgemaakte godsdiens, danige nederigheid en streng beheersing van die liggaam”, maar het eintlik geen werklike waarde nie (2:23). Paulus verwys ook na sulke kennis in 2:16–19.

Teenoor die mensgemaakte kennis staan die kennis van God,7 soos dit in Christus geopenbaar word. Hierdie kennis is die waarheid wat aan gelowiges verkondig is toe hulle die waarheid van die evangelie gehoor het (1:5–6) en deur geloof God se genade leer ken het (1:6) en deel van die koninkryk van God se Seun geword het (1:13).

Hierdie “evangeliese” kennis (1:6) moet uitbrei en vrug voortbring, soos 1:9–10 verder beklemtoon.8 Reeds as deel van die eksordium van die brief druk Paulus sy wens vir die gelowiges in Kolosse uit in terme van die besit en groei van kennis (1:9–10), twee temas wat Paulus chiasties verbind:

A (v. 9): πληρωθῆτε τὴν πίγνωσιν τοῦ θελήματος αὐτοῦ ἐν πάσῃ σοφί καὶ συνέσειπνευματικῇ,
  dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en insig
  B (v. 10a): περιπατσαι ἀξίως τοῦ κυρίου (v. 10b) εἰς πᾶσαν ἀρεσκείαν,
    om vir die Here op ’n waardige wyse te leef en Hom tevrede te stel
  B1 (v. 10c): ἐν παντὶ ἔργῳ ἀγαθῷ καρποφοροντες
    terwyl julle vrug dra deur elke goeie werk
A1 (v. 10d): καὶ αὐξανόμενοι τῇ πιγνώσει τοῦ θεοῦ
  en te groei in die kennis van God.

 

In die eerste deel van die chiasme (A en B, 1:9–10b) lê die klem op Paulus se versoek daarop dat die gelowiges met kennis vervul mag word met die doel om deur hulle waardige gedrag, gebaseer op hierdie kennis, God tevrede te stel. Hier word die kousale verband tussen kennis en gedrag duidelik beklemtoon – positiewe gedrag vloei uit positiewe kennis. Die kennis is nodig om te weet hoe om op ’n waardige wyse vir God te leef.

In die tweede gedeelte (A1 en B1, 1:10c–d) val die klem op groei. Die verhouding tussen kennis en gedrag is ’n dinamiese, sikliese proses. Deur goeie werke te doen groei gelowiges ook in hulle kennis van God. Dit lei tot ’n sikliese proses: Kennis van God is nodig om te weet hoe om reg op te tree, en juis korrekte optrede lei verder na groei in kennis en natuurlik verdere optrede wat God tevrede stel.

Hierdie proses van groei in kennis en optrede word in 3:10 verder ontwikkel. Die woord “vernuwe” (ἀνακαινόω) word in woordeboeke dikwels verbind met “to cause something to become new and different, with the implication of becoming superior – ‘to make new, renewal’” (Louw en Nida 1996:593). Hierdie semantiese omskrywing van die woord sou impliseer dat die kennis waarna in 3:10 verwys word, heeltemal nuut, anders en kwalitatief beter as die vorige moet wees. Tog, as die term “vernuwe” na ’n statiese proses sou verwys het, is die gevolgtrekking dat dit gaan om ’n eenmalige verandering van kennis, soos byvoorbeeld tydens die proses van bekering. Daar is egter vroeër aangedui dat vernuwing in hierdie konteks na ’n voortgaande proses verwys. In die res van die brief word kennis ook nie telkens “vervang sodat dit nuut en anders is nie”, maar veronderstel ’n proses van groei en uitbreiding van kennis, wat natuurlik nuwe kennis veronderstel, maar nie die voorafgaande positiewe kennis oor die evangelie “uitskakel” of nutteloos maak nie.9 Nuwe (vernuwende) kennis bou voort op bestaande kennis. In 3:10 gaan dit oor voortdurende groei wat die perspektief van gelowiges op hulle verhouding met God (in kennis en gedrag) voortdurend uitbrei met nuwe perspektiewe.10 “Vernuwe” in 3:10 beteken dus nie dat die kennis “nuut en anders” word omdat die kennis van gister “oud” geword het nie, maar dui op ’n dinamiese proses waarin die perspektief van gelowiges in hulle verhouding met God steeds vergroot en so steeds vernuwe, onder andere deur die onderrig van Epafras (1:7) en Paulus (1:25). Die lewensveranderende kennis is dus nie stagnant nie, maar is deel van ’n dinamiese proses waarin waardige gedrag die resultaat van groeiende kennis van God is (3:10).

Wat presies sluit hierdie kennis in? Daar word deurgaans na “kennis” in die brief verwys, wat help om vas te stel wat Paulus in gedagte gehad het. In 1:24–2:5 beskryf Paulus sy pogings om die kennis van die misterie van God, wat met Christus verband hou, onder gelowiges uit te brei. Daar sê hy dat sy doel is om die woord van God (λόγον τοῦ θεοῦ) volledig bekend te maak aan gelowiges (1:25) deurdat hy almal met alle wysheid (πάσῃ σοφίᾳ – 1:28) volwasse in Christus wil maak. Hy wil gelowiges help om saam te “strewe na diep en volledige insig (τῆς συνέσεως)”, sodat hulle God se geheimenis kan ken.11 Die geheimenis is Christus (2:2) – ’n stelling wat die aard van kennis in Kolossense tipeer deur dit te verchristologiseer. Kennis in Kolossense word dus in terme van Jesus Christus herdefinieer as die “plek” of persoon waar die misterie van God bekend gemaak word en die kennis van God beskikbaar geraak het. In 2:3 sê Paulus juis dit: In Christus “is al die verborge skatte van wysheid (σοφία) en kennis (γνῶσις) te vind” (terme uit 1:9–10 word hier herhaal). Nie enige ander kennis nie, maar die kennis wat deur Jesus verpersoonlik en openbaar word, en in gelowiges is (1:25–27), is spesifiek hier ter sprake. Dit is die kennis wat onder andere in die evangelie aan die Kolossense verkondig is (1:6).

Kolossense verwys dus ook deurgaans na die inhoud van hierdie kennis, byvoorbeeld in gedeeltes soos 1:13–20 waar Jesus geïdentifiseer word as die Skepper, Onderhouer en Herskepper en Versoener wat hoof oor alle magte en owerhede is. Jesus is ook die bron van die volheid van die heil en nuwe lewe wat God en Jesus aan almal “in Hom” skenk, soos 2:9–15 dit beskryf. Hy is ook die hoof van sy kerk wat uit Hom groei (2:19). Hy is die werklikheid wat gekom het (2:17) en wat dus veroorsaak dat die “dinge van die skaduwee” nie meer van belang is nie (2:16–18, 20–23).

Dit gaan dus nie om Gnostieke, mistieke of ’n tipe “ken-jouself”-kennis nie, maar om praktiese heilskennis wat die resultaat is van die verhouding tussen Jesus en die gelowige. Dit herinner Wolter (1993:59) tereg aan die verbondskennis van die Jode, waar kennis van God noodwendig lei tot optrede volgens die verbondswet.12 Die verhouding met Jesus kom egter in die plek van die verbondswet: Gelowiges, wat saam met Jesus opgewek is, moet die dinge bedink en soek waar Jesus (en nie mensgemaakte wette of reëls nie) is (3:1–2) en dienooreenkomstig optree (3:5–4:2).

 

3. Word vernuwe na die beeld van die Skepper

Volgens Kolossense 3:10 het gelowiges hulle beklee (ἐνδυσάμενοι) “met die nuwe self/mens (τὸν νέον)13 wat vernuwe word (τὸν ἀνακαινούμενον) … na die beeld van sy Skepper (κατʼ εἰκόνα τοῦ κτίσαντος αὐτόν)”. Twee vrae is hier ter sprake, naamlik: (i) Na wie verwys die term Skepper? (ii) Presies hoe word die gelowige vernuwe “na die beeld van sy Skepper”?

Die frase “die beeld van sy Skepper” kan op verskillende maniere verstaan word, waarvan veral drie van belang is.

(i) “Skepper” kan moontlik na God as Skepper verwys, op grond van Genesis 1:26–7,14 wat dan hier as primêre agtergrond sou funksioneer – ’n standpunt wat algemeen in kommentare voorkom.15 Die moontlikheid veronderstel dat gelowiges vernuwe moet word na die oorspronklike beeld van God, soos hulle as beeld van God geskape is. Mense moet vernuwe word in ooreenstemming met hulle oorspronklike “beeld”.

(ii) “Skepper” kan ook moontlik na Jesus as Skepper verwys, op die basis van die skeppingsteologie in Kolossense 1:15–20.16 Die moontlikheid veronderstel dat gelowiges na die beeld van Jesus, wat in 1:15 genoem word, vernuwe moet word. Dit is ’n volledige verchristologisering van die uitdrukking wat na Jesus in die algemeen verwys.

(iii) Die Skepper kan na God verwys, van wie Jesus die beeld is.17 Die beeld van God is dus die beeld waarvolgens die vernuwing moet plaasvind, wat die veronderstelde agtergrondskonteks meer tot die skeppingsteologie van 1:15–20 beperk.

Moontlikhede (ii) en (iii) is nóú verwant, maar verskil tog ten opsigte van wat beklemtoon word.

Die interpretasie volgens (i), die eerste moontlikheid, naamlik dat die nuwe “self/mens” volgens God se beeld, soos die mens aanvanklik deur Hom geskape is, vernuwe moet word (1:26–7), veronderstel dat die skeppingsteologie uit Genesis die teologiese betekenis hier in 3:10 moet bepaal. Dit is egter ’n probleem dat die tema van die mens as beeld van God nie in Kolossense voorkom nie – Jesus is die beeld van God (1:15). Dit beteken dat hier ’n ander beeld as in Genesis 1 gebruik word, met weinig of geen verdere suggesties dat Genesis hier in Kolossense as die interpretatiewe agtergrond moet dien nie. Die uitwys van hierdie agtergrond is ook van weinig interpretatiewe nut, aangesien daar geen konsensus (eintlik net onduidelikheid wat tot veel spekulasie lei)18 bestaan oor die presiese teologiese inhoud van die “mens as beeld van God die Skepper” wat hier opgeroep sou word nie.

In die lig van bostaande moet die ander twee moontlikhede, naamlik dat die “beeld” hier na Jesus verwys (of die Skepper nou die Vader of die Seun is), dus ernstig oorweeg word, veral in die lig van die herinterpretasie van die skeppingsteologie in die lig van die Christologie in 1:15–20.19

As wegspringpunt moet die semantiese betekenis van die woord κατά (na [die beeld]) eers kortliks oorweeg word, aangesien hierdie woord ’n spesifieke verhouding tussen die gelowige en sy Skepper beskryf. Hierdie woord het ’n baie wye leksikografiese en dus semantiese potensiaal wat verskillende verhoudings kan beskryf. Beide Arndt e.a. (2000:512) en Louw en Nida (1996:777) noem dat die semantiese potensiaal van die woord die idee van soos, in ooreenstemming met, in verhouding tot, volgens insluit.20 Dit sou beteken dat die “vernuwing” in ooreenstemming met, of na die voorbeeld van, die beeld van sy Skepper moet wees. Dit plaas die uitdrukking binne ’n duidelike raamwerk: Die gelowiges se proses van verbreding van hulle kennis moet plaasvind in ooreenstemming met en na die voorbeeld van die “beeld”, wat na Jesus verwys. Jesus is dus die oriënteringspunt en voorbeeld vir die vernuwing in kennis.

Word hierdie standpunt deur die kontekstuele gegewens van Kolossense ondersteun? Die gelowiges se bestaan en optrede word sterk verchristologiseer in die res van Kolossense. Hierdie oriëntering van gelowiges aan die voorbeeld van Jesus sou selfs as die (of ten minste ’n) hooftema in die brief beskryf kon word (2:6–7; 3:1–2, 17). Voorbeelde van die mate waarin Paulus sy boodskap, ten opsigte van beide identiteit en gedrag, verchristologiseer, kom deur die hele brief voor: Gelowiges kry hulle volheid en nuwe lewe in en saam met Jesus en moet daarin volhard (1:9–15, 22–3). Gelowiges moet strewe na wat bo by Jesus is (3:1–2); hulle moet uit die Hoof, Jesus, groei (2:19); hulle moet volkome gemaak word in die kennis wat in Jesus verpersoonlik word (1:26–2:3); hulle het Jesus aangeneem en moet daarom in Hom gewortel en op Hom gebou bly (2:6–7) – en so kan voortgegaan word. Uitdrukkings soos “in” of “met” Jesus Christus word ook met hoë frekwensie in Kolossense gebruik.21 Gelowiges is saam met Christus opgewek tot die nuwe lewe, en moet dus hulle gedagtes rig op wat daar bo is en strewe na die dinge waar Jesus is (3:1–2). Hulle moet inderdaad alles doen in die naam van en dus op gesag van Jesus (3:17).

’n Belangrike aanduiding van hoe Paulus Jesus as oriëntering en voorbeeld in 3:10 verstaan, word in die daaropvolgende uitspraak (3:11) verduidelik: “Hier is dit nie Griek en Jood nie, besny en nie besny nie, barbaar, Skuth (Σκύθης), slaaf, vry nie, maar Christus alles en in almal (alles) (ἀλλὰ [τὰ] πάντα καὶ ἐν πᾶσιν Χριστός).” Hier word uiteengesit wat die vernuwing in ooreenstemming met die beeld (Jesus) van die Skepper beteken. Die gelowiges se vernuwende “lewenspasie” (die “hier”22 – ὅπου) word in terme van Jesus, sy teenwoordigheid en invloed, beskryf (Jesus is alles en in almal/alles), waarvolgens die visie van die gelowige op die menslike realiteit van persoonlike, geslagtelike, sosiale en politieke maatstawwe verskuif na die beeld van Jesus – Hy is nou alles en in alles (Wolter 1993:182–3). Hoewel slawe in hierdie wêreld slawe bly, vroue vroue, besnedenes besnede, ens., bepaal of beskryf dit nie gelowiges se identiteit of gedrag nie. Hulle vernuwende identiteit in Christus bepaal hulle lewens op ’n oorkoepelende manier. Of in terme van 3:10 gestel: Gelowiges wat vernuwe word in kennis in ooreenstemming met die beeld van hul Skepper, word in totaliteit deur hierdie beeld bepaal, sodat Christus in almal is en menslike maatstawwe in hierdie lig vervaag as kriteria van beoordeling en gedrag. Dit laat min twyfel oor wie as voorbeeld vir die vernuwing dien. “At its simplest, this means that the manner of Christ’s living, as attested in the Jesus tradition, provided the pattern for this new self life (2:6–7), as the enabling of the risen Christ provided its means (1:9–11)” (Dunn 1996:221).

Indien die uiteensetting hier bo korrek is, maak dit kontekstueel sin om die stelling in 3:10 te verstaan as ’n beskrywing van hoe gelowiges al meer vernuwe moet word volgens en in ooreenstemming met die beeld van Jesus. Dit is wat moontlikhede (ii) en (iii) hier bo veronderstel. Indien die beeld na God as Skepper verwys (moontlikheid (iii) hier bo), kom die gedagte van Jesus as Skepper, Onderhouer en Herskepper (1:15–20) meer in fokus.23 Dit is egter onwaarskynlik dat gelowiges se vernuwing in die lig van “skeppers of onderhouers” verstaan moet word, wat die funksies van Jesus as beeld van God in 1:5–20 veronderstel. Moontlikheid (ii) lyk dus meer waarskynlik, veral in die lig van die feit dat die verbondenheid tussen Christus en sy invloed op gelowiges deurgaans in die brief beskryf en beklemtoon word, soos hier bo aangedui. Dit beteken dat die begrip “beeld” in hierdie geval meer veronderstel as die skepping of herskepping soos in 1:15–20 beskryf is, maar dat dit die algemene beskrywings oor Jesus in die res van die brief insluit, byvoorbeeld dat Hy die misterie van God is, dat korrekte gedrag gedrag in sy naam as Here beteken (3:12–17), dat gelowiges sy voorbeeld moet volg deur onder andere die dinge daar bo, waar Hy is, te bedink (3:1–2).

Die breër konteks van 3:10 (naamlik 3:5–4:2) bevestig bostaande uiteensetting deur verder te beskryf hoe Paulus die “vernuwing” prakties visualiseer. Die sentrale uitspraak in 3:10–11 vorm die kern van ’n breër antitetiese ringskomposisie: Negatiewe gedrag, waarvan ontslae geraak moet word, vorm die eerste deel van die ring (3:5–9) en positiewe gedrag die tweede deel van die ring (3:12–4:2). Die vernuwing in ooreenstemming met die beeld van die Skepper word hier in terme van korrekte gedrag op grond van die verworwe status as uitverkorenes en heiliges in Christus uitgedruk (3:1, 12).24 Daarom moet negatiewe gedrag afgesweer word (3:5–9, vgl. ook 2:20). Alles wat gelowiges doen of sê, moet in die naam en op gesag van Jesus gesê en gedoen word (3:17; Wolter 1993:60). Hoe vernuwing na die beeld van die Skepper dus lyk, word in terme van tipiese positiewe gedrag beskryf, wat liefde, vrede, vriendelikheid, nederigheid, goedheid, sagmoedigheid, verdraagsaamheid en soortgelyke optrede insluit (3:12–16).25 Hierdie gedrag fokus op gesonde persoonlike verhoudings wat nie onsedelike of kwetsende of skadelike gedrag insluit nie (3:5–9), maar gedrag “in die naam van die Here Jesus” illustreer (3:17), juis omdat Jesus in en saam met hulle is (vgl. ook 1:26–7). Sulke positiewe etiese gedrag is die resultaat van hulle identiteit as mense wat saam met Jesus opgewek is en op dinge wat “daar bo is”, waar Christus is, moet fokus en dit moet bedink (3:1–2).26 Hulle lewens word volgens die voorbeeld en onder die invloed van Jesus vernuwe. Hier lê die klem veral op die positiewe manier waarop gelowiges in hulle verhoudinge hulle lewensruimte moet beïnvloed (3:11), of anders gestel, hoe hulle eties met hulle gedrag van liefde, vrede, ens. (3:12–4:2) soos Jesus “lewe” en “versoening” (1:20) moet bring. Behm (1964:452–3) stel dit so: “Col. 3:10 refers to moral renewal … The new man is present and he is also in constant process of becoming (pres. part.) as he continually receives the new life which is given. This renewal of being is moral by nature …” 27

Soos uit die bespreking hier bo blyk, lewer die twee frases wat in 3:10 op mekaar volg, naamlik om vernuwe te word in kennis en in ooreenstemming met die beeld van die Skepper, elkeen sy eie bydrae tot die idee van vernuwing, maar staan tog in noue sintaktiese verband tot mekaar. Die vernuwing vind ten opsigte van kennis plaas wat as voorbeeld die beeld van sy Skepper het. Dit eggo wat in 1:9–10 gesê is: Op grond van die kennis van God weet gelowiges hoe om reg op te tree, en deur reg op te tree brei hulle kennis van God uit. Inderdaad, hulle word vernuwe in hulle kennis na die voorbeeld van die beeld van God soos deur Jesus verteenwoordig word.

 

4. Enkele slotopmerkings

Die stelling in 3:10 weerspieël die Christologiese klem en fokus in Paulus se brief aan die Kolossense. Die kennis waarin die gelowiges vernuwe moet word en groei, is die kennis wat hulle in die evangelie aangaande Jesus, die misterie van God wat openbaar gemaak is, bereik het. In hierdie kennis moet hulle gewortel bly en groei. Dit is ook waarvoor Paulus hom beywer, want groei in kennis beteken gedrag wat meer en meer vrug dra. Gelowiges se identiteit en nuwe lewe word deur Jesus bepaal, wat in en saam met hulle gesterwe het, maar ook opgewek is. Gelowiges deel in sy volheid. Hulle moet derhalwe in kennis volgens die voorbeeld van sy beeld groei as mense wat alles in die naam van Jesus doen. Dan sal Christus alles en in alles/almal wees.

 

Bibliografie28

Arndt, W., F.W. Danker en W. Bauer (reds.). 2000. A Greek-English lexicon of the New Testament and other early Christian literature. Chicago: University of Chicago Press.

Behm, J. 1964–. Καινός, Καινότης, Ἀνακαινίξω, Ἀνακαινόω, Ἀνακαίνωσις, Ἐγκαινίζω. Theological dictionary of the New Testament. Grand Rapids: Eerdmans.

Bird, M.F. 2009. Colossians and Philemon. Eugene: Cascade Books.

Curtis, E.M. 1992. Image of God (OT). The Anchor Yale Bible dictionary. New York: Doubleday.

Dunn, J.D.G. 1996. The epistles to the Colossians and to Philemon: A commentary on the Greek text. Grand Rapids: Eerdmans.

Fee, G.D. 2007. Pauline Christology. Peabody: Hendrickson.

Gundry, R.H. 2010. Commentary on the New Testament: Verse-by-verse explanations with a literal translation. Peabody: Hendrickson.

Lightfoot, J.B. 1886. Saint Paul’s epistles to the Colossians and to Philemon. Londen, New York: Macmillan.

Lohse, E. 1971. Colossians and Philemon: a commentary on the epistles to the Colossians and Philemon. Philadelphia: Fortress.

Louw, J.P. en E.A. Nida. 1996. Greek-English lexicon of the New Testament: Based on semantic domains. New York: United Bible Society.

Malherbe, A.J. 1986. Moral exhortation. A Greco-Roman sourcebook. Philadelphia: Westminster.

Martin, R. 1974. Colossians and Philemon. Londen: Oliphants.

Moo, D.J. 2008. The letters to the Colossians and to Philemon. Grand Rapids: Eerdmans.

Morgan, T. 2007. Popular morality in the early Roman Empire. Cambridge: Cambridge University Press.

O’Brien, P.T. 1982. Colossians, Philemon. Dallas: Word.

Talbert, C.H. 2007. Ephesians and Colossians. Grand Rapids: Baker Academics.

Witherington III, B. 2007. The letters to Philemon, the Colossians, and the Ephesians: A socio-rhetorical commentary on the captivity epistles. Grand Rapids: Eerdmans.

Wolter, M. 1993. Der Brief an die Kolosser. Der Brief an Philemon. Gütersloh: Gütersloher Verlagshaus.

 

Eindnotas

1 Paulus word gerieflikheidshalwe as outeur genoem, sonder om daardeur iets oor die werklike outeurskap te veronderstel.

2 Talbert (2007:228) onderstreep dat die beeld van klere “uittrek en aantrek” nie tot Kolossense beperk is nie, maar wyer in die Griekse literatuur voorkom: “Diogenes Laertius tells how Pyrrho, attacked by a dog, sought refuge in a tree, a behavior inconsistent with his philosophy. When this was pointed out, he said, ‘It is difficult to put off the man’ (Vit. Phil. 9.62, 66) … [T]he language of taking off vices and putting on virtues is found in conventional speech (e.g., Philo, Somn. 1.224–5; Dio Chrysostom, Or. 60.8; Philostratus, Vit. Apoll. 4.20). Taking off and putting on was also the language of initiation within the mystery religions (Apuleius, Metam. 11.23–24).” Dit word ook elders in die Nuwe Testament gebruik vir die aantrek of uittrek van klere, byvoorbeeld in Mat. 27:28, 31, Mark. 15:20, Luk. 10:30, 15:22). Vgl. ook Arndt e.a. (2000:100, 333) wat na verskillende antieke outeurs verwys.

3 Die werkwoorde ἀπεκδύομαι en ἐνδύω “normally refer[s] to a literal ‘taking off’ of clothes … The same is true of the verb used in v. 10a, endyomai, ‘put on’, which refers to the donning of clothes fourteen times in the Gospels, Acts, and Revelation,” soos Moo (2008:266) tereg opmerk. Hy sê verder (2008:266): “While, then, it was not clear that the verb ‘rid yourselves’ in v.8 alluded to a change of clothes, the case for such an allusion here is considerably stronger. A change of clothes is a rather natural symbol for a change in life or situation; and a kind of ‘ritual’ changing of clothes therefore featured in a number of ancient religions.”

4 Lightfoot (1886:212–3) asook Lohse (1971:141) interpreteer die partisipia as imperatiewe, gebaseer op die aard van die hoofwerkwoord. O’Brien (1982:188–9) noem dat “grammatically this interpretation is possible …, and the use of the participle for the imperative was a genuine Hellenistic development …, with instances in the NT (e.g., Rom. 12:9) while examples of this phenomenon were common enough in rabbinic usage …” Vgl. ook Moo (2008:267).

5 Talbert (2007:228) beklemtoon tereg die volgende: “In verse 5 (‘Kill, therefore, the earthly members in you’ by avoiding these five vices) and verses 12 and 14 (‘clothe yourselves’ with five virtues, love), the language points to the process of moral and spiritual growth subsequent to conversion. Note that ‘the new [self/man] … is in the process of being renewed’ (3:10b). The Christian life is not automatically ‘free of vices’ but represents rather the battle against these vices.”

6 Behm (1964:452–3) stel dit so: “The new man is present and he is also in constant process of becoming (pres. part.) as he continually receives the new life which is given.” Vgl. ook Witherington (2007:178): “… [a] present passive participle indicating God’s ongoing action in the believer’s life. This is not a one-time experience or even repeated sanctifying experiences, but rather an ongoing progressive process of sanctification and inward renewal.”

7 Wolter (1993:58–61) gee ’n goeie oorsig oor die potensiële betekenis van “kennis” in Kolossense.

8 Lightfoot (1886:137), O’Brien (1982:23) en Dunn (1996:72) byvoorbeeld sien die verwysing na groei in 1:6 as agtergrond vir die verstaan van 1:10.

9 Behm (1964–:453) het dit reeds aangevoel deur die woord “vernuwe” met ’n “process of becoming” te verbind wat ’n groeiproses ook op morele vlak veronderstel. Dit gaan dus nie telkens oor iets anders wat alles vooraf vervang nie.

10 Die term “vernuwe” word net deur Paulus gebruik – hier in 3:10, asook in 2 Kor. 4:16. In Korintiërs gaan dit ook oor ’n proses waarin swaarkry met die onsigbare, ewige heerlikheid gekontrasteer word. Al gaan dit swaar, kan die gelowige elke dag vanuit die ewige heerlikheid verdere moed skep. Ook hier gaan dit nie daarom dat die gelowige elke dag alles voorafgaande vervang met iets nuuts en anders nie, maar dat die kennis wat reeds bestaan, dag vir dag verdere positiewe perspektiewe bevestig. Dit blyk dus dat die klem in die woordeboeke wat “change into something new and different” (Louw en Nida 1996:593) nie die gebruik in Paulus akkuraat weergee nie.

11 Die kursiewe woorde in die teks veronderstel dat Paulus die oordrag van kennis as proses sien, wat die gedagte van die groei in kennis, in beide 1:9–10 en 3:10, bevestig. Epafras is ook deel van hierdie proses (1:7–8).

12 Wolter (1993:59) verbind hierdie kennis met “atl-jüdische Sprachgebrauch” wat aan die Tora herinner en wat in die konteks van “Heilsvorgabe” verstaan moet word. Hierdie kennis is Christologies gevul (bl. 60). Martin (1974:51) bevestig ook dat kennis teen die Ou-Testamenties-Joodse agtergrond “[is] always connected with practical obedience”. Identiteit en gedrag kan dus nie geskei word nie.

13 Moo (2008:267–8) meld: “This language strongly suggests that the ‘new self’ is not a part of an individual or even an individual as a whole, but some kind of corporate entity”, soos wat die geval in Efes. 2:15; 4:13, 22 en Rom. 5:12, 21; 6:6 is. O’Brien (1982:189–90) is dieselfde mening toegedaan: “Also the terms ‘the old man’ (τὸν παλαιὸν ἄνθρωπον) and ‘the new (man)’ (τὸν νέον) do not simply describe an individual’s condition (e.g. one’s old, bad character and the new, Christian character), but also carry corporate associations denoting an old and a new order of existence.” Hy is verder van mening (bl. 191) dat “the expression, ‘the new man’” korporatief van aard is en op die nuwe mensheid in Christus dui. Gundry (2010:807) waarsku daarteen om die “nuwe mens” as Christus te sien, omdat Hy geen vernuwing in kennis nodig het nie. “So, it’s better to understand ‘the old human being’ as the Colossians preconversion self, together with its vices, and ‘the new [human being]’ as their converted self, together with its virtues.” Dat die ‘nuwe mens’ korporatief verstaan word, is nie vreemd in die antieke konteks van groepsdenke nie.

14 “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis (κατʼ εἰκόνα ἡμετέραν καὶ καθʼ ὁμοίωσιν – LXX) …”

15 Lightfoot (1886:214), Wolter (1993:180–1) en Fee (2007:303–4) tel onder die ondersteuners van die een standpunt dat die verwysing na “Skepper” hier na God die Vader is, veral vanweë die gebruik van κτίζω en derivate. Dit sou natuurlik tot die dogmatiese standpunt lei dat die mens as beeld van God “herstel of nuut gemaak” word.

16 O’Brien (1982:191) ondersteun die standpunt dat die verwysing na die Skepper na ’n verwysing na Jesus Christus is. Vgl, ook Witherington (2007:178).

17 Bird (2009:102) stel dit so: “While echoes of Gen. 1:26–27 are quite clear, the verse harks back to what Paul said in Col. 1:15, where Jesus is the ‘image of the invisible God’, and Paul also predicates the role of creator to Jesus in Col. 1:16. As Jesus Christ is the icon of God (Col. 1:15; 2 Cor. 4:4) so Christians, when Messiah dwells in them, become renewed after the image of God.”

18 Curtis (1992:389) noem byvoorbeeld dat “the statement of humanity’s creation in the image of God appears to have had less importance in the biblical tradition than it assumed in later theological discussion … [T]he contexts are lacking the kind of explicit clues that would remove the ambiguity as to the exact meaning of the terms.”

19 Onder andere dui die sterk strukturering van 1(13)15–20 op die klem wat op hierdie tema gelê word.

20 Arndt e.a. (2000:512) formuleer ’n potensiële gebruik van die woord κατά so: “marker of norm of similarity … according to, in accordance with, according to … just as, similarly to”, terwyl Louw en Nida (1996:777) dit so stel: Dit is “a marker of a relation involving similarity of process, ‘in accordance with, in relation to’”.

21 Vgl. 1:2, 27, 28; 2:6, 7, 10, 11, 12, 13, 20; 3:1, 4, 11.

22 Moo (2008:267) is van mening dat “here (ὅπου)” waarskynlik na die “new self” verwys, terwyl Martin (1974:109) ook die verwysing sien as na “the realm of the new man”.

23 Dunn (1996:222) merk tereg op: “In this way Paul and Timothy in true Pauline style manage to hold together creation and salvation in the thought of Christ as both the creative power of God (1:15) and as the archetype for both creation and redeemed, renewed humanity (πρωτότοκος both ‘of all creation’ and ‘from the dead’, 1:15, 18b).”

24 Behm (1964:452) stel dit so: “Col. 3:10 refers to moral renewal …”

25 Malherbe (1986:38) beklemtoon hoe belangrik dit vir die antieke mens was dat wat hy of sy sê en doen, met mekaar ooreenstem. Wie jy is moes deur wat jy doen bevestig word. Vgl. ook Morgan (2007:141).

26 Bird (2009:102) sê tereg: “God’s recreation is according to the pattern of Jesus Christ who resembles God’s absolute likeness.”

27 Moo (2008:269–70) onderstreep: “However, we will also recall that Paul has already claimed in this letter that it is Christ himself who is supremely ‘the image (eikōn) of God’ (1:15). It is Christ who supplies the pattern for the renewal of the ‘new self’, as Romans 8:29 makes clear.”

28 Dit is opmerklik dat die kommentare wat onlangs gepubliseer is, meestal tendensieus van aard is, of met populêre inslag aangebied word. Dit dra nie wesentlik iets nuuts tot bogenoemde ondersoek by nie. Wat artikels spesifiek oor Kol. 3:10 betref, is daar ook nie onlangse publikasies wat uitgestaan het nie.

 

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Wat beteken dit om volgens Kolossense 3:10 vernuwe te word "in kennis na die beeld van sy Skepper"? appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 795

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>