|
Opsomming
Hierdie artikel fokus op die Afrikaanse Taalmonument teen die hange van Paarlberg, die Afrikaanse Taalmuseum en ander gedenkstrukture ter ere van Afrikaans. Laasgenoemde is in die vorm van monumente, een laerskool, gedenkplate, en so meer.
Die navorsing in hierdie artikel toon aan dat die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl steeds omstrede is, selfs meer as 45 jaar ná die inwyding daarvan. Voorts blyk dit dat verskeie strukture ter ere van Afrikaans opgerig is.
Die Monument en Museum in die Paarl vorm tesame met die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) ’n agentskap van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur (DSKK). Die ATM word deur grootliks deur die DSKK befonds.
Terwyl die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl wyd bekend is, het ander Afrikaanse taalgedenkstrukture vergete geraak. Afrikaanse taalgedenkstrukture is tydens die landwye Die wonder van Afrikaans-fees (1959), in die Taaljaar (1975) en in 2014 opgerig. Besonderhede van sommige van hierdie gedenkstrukture is aangeteken, maar nie van almal nie.
Monumente ter herdenking van Afrikaans en Die wonder van Afrikaans is byvoorbeeld in Kroonstad en Welkom opgerig, en ’n laerskool is in Witbank (tans eMalahleni) opgerig.
Afgesien van die een in die Paarl, is strukture in 1975 in Aberdeen, Belfast, Burgersfort, Delareyville, Ermelo, Groblersdal, Hartswater, Johannesburg, Keimoes, Koster, Lichtenburg, Makhado (Louis Trichardt), Malmesbury, Montagu, Moorreesburg, Nigel, Ohrigstad, Oos-Londen, Petrus Steyn, Reddersburg, Redelinghuys, Reitz, Riebeeck-Kasteel, Sannieshof, Springbok, Trompsburg, Touwsrivier, Vanrhynsdorp, Ventersdorp en Worcester ter herdenking van die Taaljaar opgerig. Daar is aanduidings dat strukture ook voorkom of voorgekom het in Ladismith (Oos-Kaap), Meyerton, Milnerton, Piketberg, Postmasburg, Potchefstroom, Schweizer-Reneke, Sishen en Vanwyksvlei, waaroor geen rekords egter bestaan nie.
’n Afrikaanse Taalmonument is op 8 November 2014 in Windhoek in Namibië onthul. Dit is onbekend of daar enige ander Afrikaanse taalgedenkstrukture in Namibië is.
Verdere navorsing is nodig om vas te stel of daar enige ander strukture ter herdenking van die Afrikaanse taal opgerig is waarvan geen inligting tot op hede aangeteken is nie.
Trefwoorde: Afrikaans; Afrikaanse Taalmuseum en -monument; kritiek op die Afrikaanse Taalmonument; Namibië; Nederlandse Taalmonument; Paarl; taalgedenkstrukture; taalmonumente; taalmuseum
Abstract
Various structures commemorating the Afrikaans language and one Afrikaans Language Museum
This article focuses on the Afrikaans Language Monument on the slopes of Paarlberg, the Afrikaans Language Museum in Paarl, and other memorial structures commemorating Afrikaans. The latter are in the form of monuments, one primary school, plaques, and the like. This research highlights the fact that the Afrikaans Language Monument in Paarl is not the only commemorative structure for Afrikaans, but merely the best-known structure. One of the aims of article is to raise public awareness of the existence of several Afrikaans language memorial structures and the Afrikaans Language Museum.
The Afrikaans Language Museum and Monument (ATM) in Paarl and on Paarlberg form one entity. This entity is an agency of the Department of Sport, Arts and Culture (DSAC). The ATM is funded largely by the DSAC.
In this discussion the formation of the Genootskap vir Regte Afrikaners (GRA, variously translated as Association of Real Afrikaners, Fellowship of True Afrikaners, Society of Real Afrikaners and Society of True Afrikaners) plays a central role. The GRA was founded on 14 August 1875 in Paarl with the general objective of elevating Afrikaans to a written language. The GRA’s mission was to ensure the translation of the Bible into Afrikaans, the publication of Di Patriot as a monthly newspaper, and the publication of an Afrikaans dictionary.
The research in this article shows that the Afrikaans Language Monument is still controversial, even more than 45 years after its inauguration on 10 October 1975. Historically, the controversial aspects were the choice of the site for the monument, the function of the monument (if any), its symbolism, and the initial plans to exclude certain racial and language groups from its inauguration. Recently (the first half of 2022), the minister of sport, art and culture, Nathi Mthethwa, questioned the word Afrikaanse in the name of the monument. After widespread opposition from the public, civil society and political parties, it was officially denied by the DSAC that the minister had raised this matter. This response of the DSAC is in itself controversial.
While the language monument in Paarl is widely known, many of the other Afrikaans language memorial structures have been forgotten. The first memorial structure in South Africa commemorating language was erected in Burgersdorp as a monument to the Dutch language. As Afrikaans has some of its roots in the Dutch language, some literature makes reference to this monument as an Afrikaans language monument.
Structures commemorating Afrikaans were erected during the commemoration of Die wonder van Afrikaans (The wonder of Afrikaans) in 1959, and in Taaljaar (Language Year) in 1975 and in 2014. Details of some of these memorial structures have been recorded, but this is not the case for all these structures. This research paper focuses on filling this void in the literature.
Structures commemorating Afrikaans and Die wonder van Afrikaans were erected in Kroonstad and Welkom, and a primary school (Laerskool Taaljaar) was built in Witbank (now eMalahleni). Die wonder van Afrikaans was a commemoration of the establishment of the SA Academy for Science and Arts (Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns) 30 years earlier in 1909, and the establishment of the Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings, or FAK (Federation of Afrikaans Cultural Societies) 30 years earlier, in 1929.
The South African government declared 1975 as Language Year in commemoration of the establishment of the GRA a century earlier in 1875, the elevation of Afrikaans to official language status in 1925, the opening of the Afrikaans Language Museum on 14 August 1975 and the inauguration of the Afrikaans Language Monument on 14 October 1975.
Other than in Paarl, structures in Aberdeen, Belfast, Burgersfort, Delareyville, East London, Ermelo, Groblersdal, Hartswater, Johannesburg, Keimoes, Koster, Lichtenburg, Makhado (Louis Trichardt), Malmesbury, Montagu, Moorreesburg, Nigel, Ohrigstad, Petrus Steyn, Reddersburg, Redelinghuys, Reitz, Riebeeck-Kasteel, Sannieshof, Springbok, Trompsburg, Touwsrivier, Vanrhynsdorp, Ventersdorp and Worcester were erected in 1975 to commemorate Language Year. There are indications that such structures also exist or existed in Ladismith (Eastern Cape), Meyerton, Milnerton, Piketberg, Postmasburg, Potchefstroom, Schweizer-Reneke, Sishen and Vanwyksvlei, of which no records exist.
The Afrikaanse Taal- en Kultuurbond (ATKB, or Afrikaans Language and Cultural Society) organised a nationwide torch run for Language Year, with eight language torches – one for each of the founding members of the GRA, and one torch named after each of them – which arrived at the Monument in Paarl on 10 October 1975. The torch run commenced on 14 August 1975 at the Voortrekker Monument in Pretoria. From the Voortrekker Monument the torches travelled to the corners of South Africa, to South West Africa (Namibia today) and to Rhodesia (Zimbabwe today). The details of the torch run have received little attention in the literature, and are a subject for further research. Certain of the structures commemorating Afrikaans that were erected in the Language Year were inaugurated when language torches arrived in those towns and cities.
An Afrikaans Language Monument was unveiled on 8 November 2014 in Windhoek in Namibia. This monument was erected in commemoration of 90 years of the official language status of Afrikaans. It is not known whether there are any other commemorative structures for Afrikaans in Namibia.
Language memorial structures are also found outside of South Africa and Namibia. The most important of these is the International Mother Language Monument (IMLM) in Grangemoor Park in Cardiff in Wales. This monument commemorates International Mother Language Day, celebrated annually on 21 February, as determined by Unesco (United Nations Educational, Scientific and Cultural Organization).
The IMLM is described as a heritage for all communities, regardless of the languages they speak. The IMLM symbolises respect for and tolerance towards all cultures and also represents the pursuit of the validity and equality of all mother tongues of the world.
Further research is necessary to establish whether any other structures commemorating the Afrikaans language were erected which have not yet been documented.
Keywords: Afrikaans; Afrikaans Language Museum and Monument; commemorative structures for Afrikaans language; criticism of the Afrikaans Language Monument; Dutch Language Monument; language monuments; language museum; Namibia; Paarl
1. Inleiding1
Hierdie artikel gee ’n oorsig van Afrikaanse taalgedenkstrukture en die Afrikaanse Taalmuseum. Die fokus van die artikel is op meerdere taalmonumente en ander gedenkstrukture wat vir die Afrikaanse taal opgerig is, en op die enkele museum ter herdenking van Afrikaans. Die oogmerk met die navorsing is om opnuut aandag op hierdie gedenkstrukture te fokus, onder meer omdat daar nie omvattende gesaghebbende literatuur oor hierdie onderwerp bestaan nie.
Monumente is onderhewig aan subjektiewe kritiek oor aspekte soos die visuele konkretisering van sekere idees, ideale, waardes en ideologiese geloofsisteme (Smith 2013:58). Sowel in die aanloop tot hul oprigting as ná die oprigting heers daar nie wrywing net oor die boodskap wat die monument moet oordra nie, maar ook oor die wyse waarop die boodskap oorgedra word (Eldridge 2003:25).
Die Afrikaanse Taalmonument teen die hange van Paarlberg in die Wes-Kaap is wyd bekend, terwyl ander Afrikaanse taalmonumente, -gedenkplate, -gedenkstrukture en een laerskool (taalgedenkstrukture) byna vergete is. Terselfdertyd trek die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl, wat aan die Monument in die Paarl gekoppel is, ook relatief min aandag. Hierdie artikel se oogmerk is om die publiek van meerdere Afrikaanse taalgedenkstrukture en die Afrikaanse Taalmuseum bewus te maak.
Die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl en die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl funksioneer tesame as die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM). Die ATM is ’n agentskap van die nasionale Departement van Sport, Kuns en Kultuur (DSKK) en word hoofsaaklik deur ’n subsidie van die DSKK befonds. Die subsidie word aangevul deur ander inkomste wat die ATM genereer, byvoorbeeld toegangsgelde en skenkings uit die privaatsektor.
Die DSKK se subsidie maak voorsiening vir lopende uitgawes van die ATM, terwyl die ATM ook periodieke subsidietoekennings vir verbeterings aan infrastruktuur ontvang. Laasgenoemde toekennings wissel na behoefte. In die boekjaar tot 31 Maart 2021 het die totale toekenning van die DSKK R10 550 881 bedra (ATM 2021).
In hierdie bespreking van Afrikaanse taalgedenkstrukture en die Afrikaanse Taalmuseum neem die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) ’n sentrale plek in. Die GRA is op 14 Augustus 1875 in die huis van Gideon Malherbe in die Paarl gestig. Die GRA se doel was om Afrikaans tot skryftaal te verhef (Kannemeyer 1984). Ten tye van die stigting van die GRA is daar nog op Afrikaans neergesien as ’n “kombuistaal”.
Die oogmerke van die GRA was om saam te staan vir die taal, nasie en die land en die missie van die GRA was om (i) die Bybel in Afrikaans te vertaal; (ii) die maandblad Di Patriot te publiseer; en (iii) ’n Afrikaanse spraakkuns en woordeboek te skep (Kannemeyer 2014).
Teen hierdie agtergrond het die GRA drie verskillende soorte Afrikaners in Suid-Afrika geïdentifiseer, naamlik:
- Afrikaners met Hollandse harte wat nog vasklou aan hul Hollandse verlede en die moederland in Europa wat hulle reeds lank tevore verlaat het.
- Afrikaners met Engelse harte wat die taal en kultuur van die Engelse regering as hul eie aanvaar.
- Afrikaanse met Afrikaanse harte, die Regte Afrikaners, wat die taal (Afrikaans) en kultuur van die nuwe land aanhang.
Die lede van die GRA het met laasgenoemde groep vereenselwig, wat ’n ontluikende Afrikanernasionalisme illustreer. Op hierdie wyse is daar uiting gegee aan ’n Afrikanernasiegevoel “waarin taal ’n belangrike merker van identiteit was” (Huigen 2008:154). Die dag en datum (dag, maand en jaar) van die GRA se stigting speel ’n sentrale rol in die bespreking van Afrikaanse taalgedenkstrukture en die Afrikaanse Taalmuseum.
Kotzé (1992:30) maak melding van die invloed van die GRA wat oor baie dekades strek. Terwyl die GRA se oogmerke ’n ontluikende Afrikanernasionalisme illustreer, lig Nienaber en Nienaber (1967) die ontwikkeling van Afrikaans as ’n kultuurtaal toe, wat inderdaad die impak van die GRA oor baie dekades illustreer. Ten tye van die oprigting van Afrikaanse taalgedenkstrukture in 1959 en 1975 was Afrikaans ten volle as kultuur- en wetenskapstaal ontwikkel.
Taalgedenkstrukture word ook buite Suid-Afrika aangetref. Die belangrikste hiervan is die Internasionale Moedertaalmonument ter herdenking van Internasionale Moedertaaldag in Grangemoor Park in Cardiff in Wallis (webwerf van die International Mother Language Monument, of IMLM). Internasionale Moedertaaldag word jaarliks op 21 Februarie gevier, soos deur Unesco (United Nations Educational, Scientific and Cultural Organization) bepaal is.
Die IMLM word beskryf as ’n erfenis vir alle gemeenskappe, ongeag die tale wat hulle praat. Die IMLM simboliseer respek vir en verdraagsaamheid teenoor alle kulture en beeld ook die strewe na die geldigheid en gelykheid van alle moedertale van die wêreld uit. In ’n wêreld van globalisering dien die IMLM as ’n baken van die behoefte om linguistiese diversiteit en veeltalige onderwys te beskerm en te bevorder (IMLM-webwerf).
Die struktuur van die res van die artikel is soos volg: Die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl word in afdeling 2 bespreek. Afdeling 3 fokus op die Afrikaanse Taalmuseum. Ander Afrikaanse taalgedenkstrukture word in afdeling 4 bepreek. Afdeling 5 meld gedenkstrukture ter ere van Afrikaans waarvan besonderhede aangeteken moet word en bespreek die gebrek aan onderhoud van die taalgedenkstrukture. Die gevolgtrekkings volg in afdeling 6.
2. Die Afrikaanse Taalmonument, Paarl2
Hierdie artikel fokus op Afrikaanse taalgedenkstrukture (sien afdeling 4 hier onder), maar weens die skaal, omvang en bekendheid daarvan word die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl in ’n afsonderlike afdeling bespreek. Die Afrikaanse Taalmonument wat in die Paarl opgerig is, oorskadu ander gedenkstrukture vir die Afrikaanse taal. Trouens, vandag is die meeste ander Afrikaanse taalgedenkstrukture vergete.
’n Formele voorstel vir die oprigting van ’n Afrikaanse Taalmonument in die Paarl is tydens ’n seremonie op 14 Augustus 1942 by die Kleinbosch-begraafplaas buite die Paarl gemaak. By daardie geleentheid is ’n gedenkplaat onthul ter ere van ds. S.J. du Toit en D.F. du Toit en P.J. Malherbe,3 drie lede van die GRA wat daar begrawe is. Volgens die FAK (s.j.a.) is daar “[m]et die lees van onder meer die […] woorde op die grafsteen van ds. S.J. du Toit […] Vader van die Afrikaanse Taal, […] in die gemoed van ds (later dr.) P.J. Loots in 1939 ’n saadjie gesaai […] wat ontkiem het”. Loots was ’n predikant en gemeenskapsleier in die Paarl. Dit is onbekend of daar vroeër soortgelyke openbare voorstelle vir ’n Afrikaanse taalmonument in die Paarl was wat nie tot uitvoering gebring is nie. Daar is geen rekords wat enige vorige voorstelle van hierdie aard rapporteer nie.
Die voorstel vir ’n Afrikaanse taalmonument in die Paarl by die onthulling van die gedenkplaat is op 26 September 1942 opgevolg met ’n openbare vergadering in die Paarlse stadsaal. By daardie geleentheid is die Afrikaanse Taalmonumentkomitee (ATMK) in die lewe geroep en is Loots is tot voorsitter verkies.
Die oogmerk van die ATMK was om fondse vir die oprigting van ’n “waardige taalmonument in die Paarl” en vir beurse aan “verdienstelike gevorderde studente wat hulle spesiaal op ’n intensiewe studie van die Afrikaanse taal wil toelê”, in te samel (ATMK-notule 26/10/1942). Die ATMK het entoesiasties aan die werk gespring, onder meer deur ’n Oproep op te stel om die fondsinsameling onder die aandag van die hele Suid-Afrika te bring. Fondse is egter teen ’n trae tempo ingesamel.
Vanaf 1963 was die Afrikaanse Taal- en Kultuurbond (ATKB), wat in 1991 in die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) opgeneem is, intensief by die werksaamhede van die ATMK betrokke. Die ATKB het mettertyd op eie koste al die administratiewe en sekretariële pligte van die ATMK oorgeneem (ATMK Jaarvergadering-notule 15/3/1963). Die ATKB het ’n groot rol by fondsinsameling gespeel en self ook ’n bedrag aan die ATMK geskenk. Die regering het voorwaardelik finansiële steun beloof (ATMK-notule, 26/10/1942).
In 1964 het die ATMK ’n kompetisie vir die ontwerp van die monument uitgeskryf. Die ATMK het twaalf argitekte genooi om aan die kompetisie deel te neem. Die ontwerp van J.C. van Wijk is as wenner aangewys (ATMK Werkskomitee notule, 24/1/1966; Van Wijk 2014:41). Hierdie ontwerp is gebruik vir die monument wat teen Paarlberg opgerig is.
Van Wijk het sekere ontwerpsbeginsels vir die monument gebruik, gebaseer op sy siening dat dit by die natuurlike omgewing moes inskakel (Van Wijk 2014:23). In die ontwerp het hy aanklank gevind by die woorde van sen. C.J. Langenhoven, wat Afrikaans as ’n “snelstygende boog” beskryf het. Voorts het Van Wijk ag geslaan op die beeld wat N.P. Van Wyk Louw gebruik het om Afrikaans te beskryf as die taal wat ’n brug slaan tussen Wes-Europa en Afrika. Die invloed van inheemse Afrika-tale op Afrikaans word deur drie koepels gesimboliseer, terwyl die invloed van die Maleise taal en kultuur deur ’n muur op die podium van die monument voorgestel word. Links van die podium na die monument is drie suile wat die invloed van Wes-Europese tale en kulture (Nederlands, Frans, Duits, Portugees en ander) wat in Afrikaans neerslag gevind het, verteenwoordig. Die podium verteenwoordig die suidpunt van Afrika. Die hoofsuil stel die snelstygende boog van Afrikaans en sy versnellende groei voor. Die suil staan in ’n poel water wat Afrikaans as ’n lewende, groeiende entiteit simboliseer wat lewensonderhoud vir sy voortbestaan nodig het. Die skerp lyne van die suil beeld die tweesnydende swaard uit, soos deur N.P. Van Wyk Louw beskryf. Die suil eindig oop en stomp om aan te dui dat die groeiproses nog steeds voortgaan. Die ligspel wat binne die brug plaasvind as gevolg van die waterpoel, saam met die openinge in die hoofsuil, versinnebeeld die taal as glansende werktuig. ’n Tweede suil (die republieksuil) beeld Suid-Afrika en interaksie met Afrika uit (Die Afrikaanse Taalmonument 2014; ATMK Werkskomitee notule 15/2/1968). Daar is ook ’n opelugamfiteater op die terrein van die monument ingerig wat vir die opening in 1975 gebruik is en vir kulturele geleenthede en konserte gebruik word.
Die monument is op 10 Oktober 1975 ingewy. Meer as 40 000 mense het die inwyding bygewoon (Die Burger 1975), wat met groot feesvieringe en koorsang gepaard gegaan het. Nienaber (1975b) beskryf die monument in die Paarl verkeerdelik as “(d)ie derde Afrikaanse Taalmonument” in Suid-Afrika, naas die taalmonumente op Burgersdorp en Welkom. Hy laat die Afrikaanse Taalmonument in Kroonstad, wat in 1959 opgerig is, buite rekening. Hy laat ook na om te meld dat minstens nege van die monumente (uitgesluit ander gedenktekens) wat tydens Taaljaar onthul is, beslis ouer as die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl is – die betrokke monumente is naamlik tussen 14 Augustus 1975 en 10 Oktober 1975 onthul.
Die ATKB het vir Taaljaar ’n landwye fakkelloop georganiseer, met agt fakkels (een vir elkeen van die stigterslede van die GRA, en elk na een van hulle vernoem) wat op 10 Oktober 1975 by die monument in die Paarl gearriveer het (sien byvoorbeeld FAK s.j.b.). Die fakkelloop het op 14 Augustus 1975 by die Voortrekkermonument in Pretoria begin (Hugo 2010) en het van die Voortrekkermonument na die uithoeke van Suid-Afrika, die destydse Suidwes-Afrika (nou Namibië) (Hugo 2010) en die destydse Rhodesië (nou Zimbabwe) vertrek voordat dit op die monumentterrein in die Paarl gearriveer het. Die besonderhede van die fakkelloop kry min aandag in die literatuur en is ’n onderwerp vir verdere navorsing. Die fakkels is egter ter sprake by die oprigting en opening van sekere van die strukture ter herdenking van Afrikaans wat in die Taaljaar (1975) in ander sentra as die Paarl opgerig is (sien afdeling 4).
Die inwyding van die monument is deur die destydse premier van Suid-Afrika, B.J. Vorster, waargeneem. Vorster het na die oprigting van die monument verwys as ’n bewys van Afrikaners en Afrikaans se reg om in Afrika te wees (Vorster 1975).
Verskillende bronne rapporteer verskille in die boukoste van die monument. Die verskille is te wyte aan die insluiting of uitsluiting van meerdere strukture by die totale koste. FAK (s.j.a.) rapporteer dat finale boukoste van die monument R713 000 beloop het. Met aanpassing vir inflasie sedert 1975 beloop dit sowat R38 miljoen teen die huidige waarde (2022). Die monument en amfiteater se boukoste het R1 061 411,45 beloop (Van Zyl en Rossouw 2016), wat sowat R60 miljoen teen die huidige waarde (2022) na inflasie beloop.
Die boukoste is gefinansier uit die bydraes wat vanaf die stigting van die ATMK ingesamel is, hoewel die ATMK se fondse onvoldoende was. Die ATMK se fondse is aangevul deur ’n bydrae deur die destydse regering (ATMK Werkskomitee notule 23/3/1973, Pieters s.j.:46).
Die indrukwekkende voorkoms van die monument word bevestig deur die feit dat dit opgeneem is in ’n boek wat die wêreld se 500 mees ikoniese argitektoniese strukture bespreek (Cattermole 2008:383). Die monument is die enigste struktuur of gebou in Suid-Afrika wat op hierdie wyse vereer is.
Die monument was reeds voor oprigting omstrede en dit is steeds die geval.4 Histories was die omstrede aspekte die terrein wáár die monument opgerig gaan word, die funksie van die monument (indien enige), die simboliek, en politieke struwelinge toe die opening beplan is. Die eerste omstredenheid was die keuse van ’n terrein. Drie moontlikhede was ter sprake: die terrein teen Paarlberg waar die monument uiteindelik opgerig is, ’n terrein in die Paarlse middedorp, en Kleinbosch buite die Paarl.
Die voorstanders van ’n monument in die Paarlse middedorp is gelei deur P.J. Loots, die eerste voorsitter van die ATMK. Loots se kritiek was nie net tot die ligging beperk nie. Hy was ook krities oor die simboliek van aspekte van die monument. Wat die ligging betref, is Loots ondersteun deur Paarliete onder leiding van J.A. van der Merwe. Hierdie groep se voorkeur was vir die oprigting van die monument in die Paarlse middedorp, regoor die Afrikaanse Taalmuseum (sien die bespreking in afdeling 3), eerder as teen die hange van Paarlberg, aan die einde van Gabbema Doordriftstraat in Suider-Paarl (ATMK-notule 26/3/1965).
W.A. de Klerk, ’n Afrikaanse skrywer en ’n lid van die ATMK, was gekant teen die bergterrein en die oprigting van ’n simboliese monument, selfs in die Paarlse middedorp (De Klerk 1974, Die Burger 1971, Pakendorf 1992). De Klerk se voorkeur was dat ’n Afrikaanse navorsingsinstituut, eerder as ’n simboliese monument, opgerig moet word.
Vir hierdie doel het hy Kleinbosch buite die Paarl voorgestel, waar die eerste voorstel vir die oprigting van die monument in 1942 gedoen is. Kleinbosch is die familieplaas van die Du Toits en Malherbes (Coombes 2003:46) en De Klerk was van mening dat “die ware taalmonument lê daar oorkant, by Kleinbosch, waar bykans elke faset van die Afrikaanse kultuur sy beslag gekry het” (Pakendorf 1992).
Met ’n blik op verwikkelinge rondom Afrikaans oor die afgelope 50 jaar sou die implementering van De Klerk se voorstel meriete gehad het. ’n Navorsingsinstituut vir Afrikaans sou die ontwikkeling en behoud van die taal ondersteun het. Die ideale oplossing sou beide ’n monument en ’n navorsingsinstituut gewees het. ’n Navorsingsinstituut op Kleinbosch, op grond van De Klerk se argument oor die “wortels van die taal”, sou egter in sigself tot kontroversie lei, omdat De Klerk verkeerd was met sy interpretasie van die geskiedenis. De Klerk se standpunt is omstrede omdat die wortels van Afrikaans teruggespoor kan word tot ’n tydperk lank voor die Du Toits en Malherbes op Kleinbosch gevestig was.
Die ontstaan van Afrikaans as taal kan teruggevoer word na die eerste kontak tussen die Nederlanders en die inheemse Khoi met wie hulle in aanraking gekom het (Hendricks en Dyers 2016:49–50). Carstens en Raidt (2019:346) bespreek ook hierdie aspek, tot die uitsluiting van die argument op grond waarvan De Klerk die navorsingsinstituut se oprigting op Kleinbosch wou motiveer. Carstens en Raidt verwys na “die ontwikkeling van Afrikaans as die produk van (i) normale taalverandering, (ii) beïnvloeding van taalkontak en (iii) taalversteuring” (2017:485).
Van Zyl (2013) ondersteun die standpunt van Carstens en Raidt (2017). Van Zyl (2013) verduidelik dat nuwe tale ontwikkel in ’n mark- of arbeidsituasie waar die partye nie mekaar se tale verstaan nie, soos aan die Kaap die geval was. Die VOC-amptenare het met die Khoi handel gedryf (marksituasie) en het hulle ook as arbeiders gebruik (arbeidsituasie) (Van Zyl 2013).
Dit is ook die antwoord op verdere omstrede optrede van Loots, wat van mening was dat die erkenning wat die monumentontwerp aan die inheemse Afrika-tale verleen, “histories ’n leuen” is (ATMK-notules; Beningfield 2004, 2006:154). Loots het fouteer, want die ontwikkeling van Afrikaans is inderdaad deur inheemse tale beïnvloed. ’n Nuwe taal wat in ’n gebied ontstaan, moet noodwendig beïnvloed word deur die inheemse tale wat in daardie streek of gebied gepraat word (Van Rensburg 2012:16–17; Le Cordeur 2010).
Voorts was (en is) die voorkoms van die monument omstrede. Die monument is onder meer beskryf as esteties onaanvaarbaar en dit het by geleentheid tot kru reaksie gelei. Die skrywer Breyten Breytenbach het die monument ’n “penis van beton” genoem, terwyl daar ook ander verwysings na die monument as falliese simbool gemaak is (Huigen 2008:156). Volgens Coombes (2003:46) het Hardy Botha, die destydse hoof van die Daljosafat Kunsstigting, die monument beskryf as ’n “mausoleum”, ’n “lifeless monstrosity” en ’n “disgusting thing”. Botha was van mening dat graffiti die voorkoms van die monument kon verbeter en bygevoeg dat “(e)ven rail tracks and bridge underpasses look better” (Coombes 2003:46).
Die destydse regering het 1975 tot Taaljaar ter ere van Afrikaans verklaar (Hugo 2010), hoewel die besluit in sekere kringe en onder sekere groepe ongewild was. Die besluit om 1975 as Taaljaar te verklaar, is deur ’n aantal faktore beïnvloed (LitNet 2010). Die Taaljaar is gevier weens die stigting van die GRA ’n eeu tevore, die toekenning van amptelike taalstatus aan Afrikaans 50 jaar tevore in 1925, en die beplanning vir die inwyding van die Afrikaanse Taalmuseum en die Afrikaanse Taalmonument in 1975.
Soos wat die toekenning van amptelike taalstatus aan Afrikaans in 1925 nie sonder teenkanting was nie (Nienaber 1975), het ’n politieke tameletjie in die aanloop tot die opening van die monument op 10 Oktober 1975 na vore getree. Die ATMK het beplan om sekere rasse- en taalgroepe van die openingseremonie van die Afrikaanse Taalmonument uit te sluit, wat tot die politieke tameletjie gelei het. Berigte in die media het daarop gesinspeel dat die ATMK se siening eers na direkte ingryping deur die Nasionale Party-regering van daardie tyd verander het (Sunday Times 1975), maar die skade aan die beeld van die monument was reeds gedoen.
Van Niekerk (2000) beskryf die inhuldigingseremonie van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl as “die kortstondigheid van menslike grootheidswaan, veral as dit gegrond is in kortsigtige nasionalisme waar eiebelang geseëvier het deur die onderdrukking van medemense en landgenote. Hy voeg by dat “(d)ie euforie, so weet ons as ons rondom ons kyk, is onherroeplik verby. Die groot uur van Afrikaans was van korte duur” (Van Niekerk 2000).
In politieke kringe bly die monument omstrede. Teen 2002 is daar vanuit owerheidsweë voorgestel dat die Afrikaanse Taalmonument ’n monument vir alle tale in Suid-Afrika moet word, en nie slegs vir Afrikaans nie. Hierdie aanslag is afgeweer, maar die woord Afrikaanse in die naam van die monument is in 2022 weer deur die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, bevraagteken (ATM 2022). Ná wye teenkanting deur die publiek, die burgerlike samelewing en politieke partye is daar by wyse van ’n skrywe deur ’n amptenaar van die DSKK, Simon Nkanunu, aan die parlementêre portefeuljekomitee vir sport, kuns en kultuur verklaar dat Mthethwa by onbevestigde gerugte betrek word en nooit gevra het vir die naamsverandering nie (Heyns 2022; sien ook Nienaber 2022). Omdat die Afrikaanse Taalmuseum en -monument ’n agentskap van DSKK is en hoofsaaklik deur die DSKK befonds word, kan enige kommentaar of optrede van die regering of die verantwoordelike minister nie geïgnoreer word nie.
Dit is egter nie die einde van omstrede optrede deur Mthethwa nie. In antwoord op ’n parlementêre vraag oor die naam van die monument het Mthethwa verklaar dat:
No such policy has been made by the Department or the Ministry to remove Afrikaans from the name of the Afrikaanse Taalmuseum en monument. So there will be no name change on the ATM. We have charged our entities to ensure that as part of the language development, the entity should take on board at least one indigenous language. (Parliamentary Question 2022)
Dit is onduidelik wat “inheemse taal aan boord neem” vir die Afrikaanse Taalmonument beteken. Verdere omstrede politieke optrede kan dus volg. Die DSKK se reaksie dat die minister by onbevestigde gerugte betrek word, is ook omstrede.
Voorts is daar ook ’n ander weg wat Mthethwa kan volg om die monument se naam te verander. Die DSKK het ’n rasionalisasieplan vir museums en monumente onder sy beheer ontwikkel waarkragtens bestaande museums en monumente van hul outonomie ontneem sal word en binne groter vlagskipinstellings sal funksioneer. Kragtens hierdie plan sal die Afrikaanse Taalmuseum en -monument met drie ander entiteite saamsmelt onder die vaandel van “taal en literatuur” (“language and literature”). Dit sal vir Mthethwa die geleentheid bied om ’n naamsverandering te bewerkstellig deur die Monument na die vlagskipinstelling te vernoem. Die publiek, burgerlike samelewing en politieke partye sal ná die samesmelting dieselfde waaksaamheid aan die dag moet lê as met die direkte 2022-aanslag op die naam van die monument.
Ten spyte van die omstredenhede wat lank voor die oprigting van die Afrikaanse Taalmonument begin het en steeds voortduur, werk die ATM deurgaans aan herposisionering as ’n kulturele eerder as politieke baken. Die doelwit is om ’n beeld van inklusiwiteit en interkulturele verhoudings op te bou. Dit word veral gedoen deur die aanbied van ’n wye verskeidenheid geleenthede wat al die sektore van die breë Suid-Afrikaanse publiek teiken. Die uitstallings in die museum is reeds meer as ’n dekade gelede vernuwe met die oog op ’n meer inklusiewe hervertelling van die taal in al sy fasette.
Ten spyte van hierdie pogings is daar steeds mense wat wantrouig teenoor die ATM en sy doelwitte staan en wat die strategie om na ander groepe uit te reik beskryf as “flying a flag of convenience” en die bedryf van “selective history” (Smith 2013:267).
3. Die Afrikaanse Taalmuseum
Die Afrikaanse Taalmuseum word gehuisves in die huis wat Gideon Malherbe in Pastorielaan, Noorder-Paarl, gebou het. Die GRA is op 14 Augustus 1875 in hierdie huis gestig. Malherbe is in 1921 oorlede, waarna die huis verkoop is en in ’n losieshuis (Westfalen) omskep is.
D’Assonville (1999:69) beskryf die stigtingsvergadering van die GRA as ’n samekoms van persone wat “vir ’n geheime vergadering gekom” het. Die rede vir ’n geheime vergadering het, aldus D’Assonville (1999:69), nie met die te stigte GRA te make gehad nie, maar met spanning in die Noorder-Paarl-gemeente, waar ds. S.J. du Toit na verwagting op 16 Augustus 1875 as leraar beroep sou word (D’Assonville 1999:69), soos inderdaad dan ook gebeur het. Die stigterslede van die GRA was A. Ahrbeck, C.P. Hoogenhout, D.F. du Toit (Daantjie Dokter) en D.F. du Toit (Oom Lokomotief), ds. S.J. du Toit, G. Malherbe (eienaar van die huis), P.J. Malherbe en S.G. du Toit. D.F du Toit (Oom Lokomotief) en S.J. du Toit was broers.
S.J. du Toit het as leier van die GRA na vore getree en het as voorsitter opgetree by die tweede GRA-vergadering op 25 September 1875. Tydens die tweede vergadering het die GRA die volgende oogmerke aanvaar:
Doel:
Om te staan vir ons taal, ons nasie en ons land.
Missie:
Vertaling van die Bybel in Afrikaans.
Uitgawe van ’n maandblad in Afrikaans, Di Patriot.
Opstel van ’n Afrikaanse Spraakkuns- en Woordeboek.
Die gebruik van die frase ons land in die missie was potensieel omstrede, gegewe S.J. du Toit se strewe na ’n verenigde Suid-Afrika, wat die destydse Kaapkolonie, Natalkolonie en onafhanklike Zuid-Afrikaanse Republiek (bedoelende die destydse Transvaal) en Oranje-Vrystaat Republiek omvat het (D’Assonville 1999:203). S.J. du Toit het teen 1879 ’n oproep gepubliseer vir ’n sentrale bank vir Suid-Afrika (D’Assonville 1999:203), waarskynlik vir die verenigde land wat hy in die vooruitsig gestel het. Hierdie oproep is gedoen namens die Afrikanerbond (’n politieke beweging) waarby hy betrokke was, en nie namens die GRA nie. Weens sy politieke bedrywighede en latere persoonlike finansiële probleme het S.J. du Toit ’n omstrede figuur geword, wat bygedra het tot die einde van die GRA (D’Assonville 1999).
Die ATMK het besef dat die huis waarin die GRA gestig is, belangrik vir die geskiedenis van Afrikaans was. Gevolglik het die ATMK in 1963 ’n aanbod van R8 000 (sowat R820 000 in huidige waarde ná ’n inflasie-aanpassing) vir die huis gemaak, maar dit was nie vir die destydse eienaar aanvaarbaar nie. Die eienaar het in 1971 besluit om die huis te verkoop en die ATMK het dit vir R30 000 aangekoop met die oogmerk om dit in ’n museum te verander. Aangepas vir inflasie beloop die koopsom teen die huidige waarde sowat R2,4 miljoen.
Die poging om die huis in 1963 aan te koop moet gesien word teen die agtergrond van die strewe van sekere lede van die ATMK, onder leiding van Loots, en ander Paarliete onder leiding van Van der Merwe, om die Afrikaanse Taalmonument in die Paarlse middedorp regoor hierdie huis, eerder as teen die hange van Paarlberg, op te rig. Eienaarskap van die huis so vroeg as 1963 sou inderdaad die argumente van hierdie groepe versterk het, naamlik om die Afrikaanse Taalmuseum en die Afrikaanse Taalmonument direk met mekaar te verbind.
Ten tye van die poging in 1963 om die huis aan te koop het die ATMK ’n drieledige doelwit geformuleer, naamlik die oprigting van ’n monument vir Afrikaans in die Paarl, die ontwikkeling van die oop plein voor die huis (die standplaas waar sekere mense die oprigting van die monument in die Paarlse middedorp beoog het) en om ’n Afrikaanse navorsingsinstituut tot stand te bring (sien onder andere ATMK-notules 15/3/1963 en 21/2/1964).
Die ATMK het verskeie opsies vir die huisvesting van die instituut ondersoek, terwyl De Klerk se oogmerk was om die instituut op Kleinbosch te vestig. Aangesien die planne wat vir die monument aanvaar is, nie ’n navorsingsinstituut kon huisves nie, het die fokus vir die huisvesting van die Afrikaanse navorsingsinstituut verskuif na die te stigte Afrikaanse Taalmuseum (Van Wijk 2014:21–22). Die museum verseker dus dat De Klerk se droom vir ’n navorsingsinstituut bereik is, hoewel nie op die plek wat hy beoog het nie. Die omvang van die navorsing oor Afrikaans is waarskynlik ook kleiner as wat De Klerk in die vooruitsig gestel het.
Nadat die ATMK die huis in 1971 aangekoop het, is die proses om dit as Afrikaanse Taalmuseum in te rig en vir die opening op 14 Augustus 1975 gereed te kry, van stapel gestuur. Die huis was ten tye van die aankoop bekend as Westfalen. Dit is herdoop na Huis Gideon Malherbe ter ere van die eerste eienaar en medestigterslid van die GRA.
Dirk Kotzé van die Universiteit Stellenbosch, wat sedert 1964 by die ATMK betrokke was, het navorsing oor die vroeë geskiedenis en ontwikkeling van Afrikaans en die GRA gedoen. Deur sy navorsing het hy ’n groot aantal Africana-tekste vir die museum bekom. Kotzé het ook die afstammelinge van Gideon Malherbe opgespoor ten einde inligting oor die huis en die familie te versamel en Malherbe-memorabilia en -artefakte te bekom (Die Afrikaanse Taalmuseum 2015).
Die museum in Huis Gideon Malherbe is gerestoureer met die oog op die inrigting van ’n huismuseum op die grondvloer en ruimte vir navorsing op die boonste vloer. Die oogmerk met die restourasie van die grondvloer was om dit te laat ooreenstem met die voorkoms toe Gideon Malherbe die huis bewoon het (Die Afrikaanse Taalmuseum 2015). Die museum is op 14 Augustus 1975 geopen (Die Burger 1975). Dit is seremonieel oopgesluit deur Johnny Malherbe, Gideon Malherbe se oudste oorlewende seun.
4. Ander taalgedenkstrukture
Navorsing het die bestaan van ’n aantal Afrikaanse taalgedenkstrukture benewens die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl, bevestig. Hierdie taalgedenkstrukture is egter nie van dieselfde omvang as die monument teen die hange van Paarlberg nie en is ook nie so bekend nie. Die taalgedenkstrukture wat reeds geïdentifiseer is, kan in vier groepe ingedeel word:
(i) Die monument in Burgersdorp, wat ’n noue verbintenis met die Nederlandse taal het.
(ii) Monumente en een skool waarvan die oprigting verband hou met die landwye Die wonder van Afrikaans-fees (1959).
(iii) Gedenkstrukture waarvan die oprigting verband hou met die Taaljaar (1975).
(iv) ’n Monument in Namibië en ’n Taalfees in daardie land.
Figuur 1. Die Taalmonument in Burgersdorp. Hierdie en die ander foto’s van strukture (behalwe figuur 6) is goedgunstiglik verskaf deur Jackie Grobler, ’n monumentkenner.
Die Taaljaar (1975) is hier bo verduidelik. Volgens Nienaber (1975b) is die taal- en kultuurfeeste in Taaljaar die sewende (en tweede landswye) taalfees. Nienaber (1975b) beskou die opening van die taalmonument in Burgersdorp in 1893 as die eerste taalfees. Nienaber (1975b) identifiseer nog vyf taalfeeste wat tussen 1893 en 1975 gevolg het. Die tweede taalfees het in 1907 plasgevind. Dit was by geleentheid van die herinwyding van dieselfde monument in Burgersdorp nadat dit gerestoureer is. In 1913 het Afrikaanse studente in Kaapstad ’n Afrikaanse taalfees gevier wat gevolg is deur ’n soortgelyke fees in Bloemfontein. Vogens Nienaber (1975b) was dit die derde en vierde Afrikaanse taalfeeste. Die vyfde taalfees is in 1916 in Willowmore in die Oos-Kaap gevier. Die tema van die Afrikaanse taalfees in Willowmore was eendragtigheid oor die Afrikaanse taal, ten spyte van politieke verskille. In 1959 was daar ’n landwye taalfees wat deel uitgemaak het van, en saamgeval het met die 50-jarige-bestaansvieringe van die Suid-Afrika Akademie vir Wetenskap en Kuns en die 30-jarige-bestaansvieringe van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) (Venter 1959). Die feesviering se tema was Die wonder van Afrikaans. Nienaber (1975b) beskou dit as die sesde Afrikaanse taalfees en die eerste taalfees wat landswyd gevier is.
Nienaber (1975b) meld nie dat daar in 1933 ’n taalfees in Burgersdorp gehou is by geleentheid van die heronthulling van die Taalmonument nie. Die fees is deur sowat 1 500 mense by gewoon (Van Rooyen 1975). Die Taalmonument is heronthul na die verskuiwing daarvan vanaf Jubileepark na Markplein (tans Burgerplein), die huidige standplaas (Van Rooyen 1975). Nienaber (1975b) laat ook na om die Langenhoven-feeste van 1973 (Kannemeyer 1996) as ’n taalfees te meld. Nienaber (1975b) meld ook nie dat taalfeeste in 1969 gevier is nie (Geldenhuys 1971). Geldenhuys (1971) meld dat ’n reeks taalfeeste in Augustus 1969 gevier is en dat “op 17 Oktober 1969 […] alle kinders in die Republiek en Suidwes-Afrika hul bydraes gebring [het] toe taalfeeste in alle skole gevier is”.
Deur ’n omvattende lys van Afrikaanse taalfeeste te verskaf, stel Carstens en Raidt (2019:582 en 583) die historiese fout reg wat Nienaber (1975b) maak ten opsigte van die geskiedenis van Afrikaanse taalfeeste. Bykomend tot die Afrikaanse taalfeeste wat hier bo vermeld word, identifiseer Carstens en Raidt (2019:582 en 583) ook ’n Afrikaanse taalfees wat op 9 en 10 Augustus 1918 in Riversdal gehou is, landswye feeste wat in 1925 gehou is, toe Afrikaans as amptelike landstaal aanvaar is, ’n taalfees wat in 1944 in die Paarl gehou is, taalfeeste om die 75ste herdenking van die stigting van die GRA in 1950 te vier, en taalfeeste in 1973 vir fondsinsameling vir die oprigting van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl.
Die oudste taalmonument is in 1893 in Burgersdorp opgerig en onthul tydens die geleentheid wat Nienaber (1975b) as die eerste Afrikaanse taalfees beskou. Verskeie ander Afrikaanse taalgedenkstrukture is daarna opgerig, en sommige hou verband met Die wonder van Afrikaans of met die Taaljaar.
Daar is ’n gedenkplaat in die Inligtingstegnologie-gebou op die Hatfield-kampus van die Universiteit van Pretoria wat die aanvaarding van Afrikaans as ’n onderrigtaal by die universiteit gedenk. Dit word egter nie as ’n taalgedenkstruktuur vir doeleindes van hierdie navorsing beskou nie, maar as ’n herdenking van ’n spesifieke geleentheid in die universiteit se geskiedenis.
Die rekords van die ATMK wat by die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl beskikbaar is, rapporteer dat Hoërskool Lyttelton in 1973 aansoek gedoen het om ’n replika, voorstelling of model van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl op die skoolterrein op te rig. Die ATMK se rekords dui nie aan of hierdie aansoek, wat wel goedgekeur is, ooit uitgevoer is nie. Die skool se naam het in 1975 verander na Hoërskool Verwoerdburg, en die skool is vanaf 1999 as Hoërskool Centurion bekend. Navrae by die Hoërskool Centurion het nie die bestaan van enige replika, voorstelling of model van die Afrikaanse Taalmonument aan die lig gebring nie en dit is deur ’n persoonlike besoek aan die skoolterrein bevestig.
4.1 Taalmonument in Burgersdorp
Na die aanvaarding van Nederlands as een van die amptelike tale (naas Engels) in die parlement van die destydse Kaapkolonie op 9 Junie 1882, is ’n taalmonument op Burgerplein in Burgersdorp opgerig (Ströh 2021). Burgersdorp was destyds in die Kaapkolonie en na die unifikasie van Suid-Afrika in 1910 in die Kaapprovinsie. Tans is Burgersdorp in die Oos-Kaap.
Die monument beeld ’n vroulike figuur van wit Carrara-marmer uit wat op ’n voetstuk staan. In die linkerhand van die beeld is ’n tablet waarop staan: “Vryheid voor de Hollandsche taal”. Op die voetstuk van die beeld is verskeie boodskappe oor die betekenis van die monument aangebring, asook inligting oor die oprigting daarvan. Op dieselfde terrein is ook ’n monument ter herdenking van die Anglo-Boereoorlog (1899 tot 1902).
Die monument in Burgersdorp is op 18 Januarie 1893 onthul en word as die eerste taalmonument in Suid-Afrika beskou (Die Afrikaner Handelshuis 2016), maar Huigen (s.j.) gaan verder en beskryf dit as die eerste taalmonument ter wêreld. Die Afrikaner Handelshuis (2016) beskryf die monument in Burgersdorp as “die enigste taalmonument in die wêreld wat opgerig is ter ere van die Nederlandse taal”. Die Afrikaner Handelshuis (2016) gaan egter voort en verklaar die monument as “’n mylpaal in die taalgeskiedenis van die Afrikaner. Die Tweede Taalmonument of Afrikaanse Taalmonument staan in die Paarl.”
’n Gedenksteen gedateer 8 Oktober 1993 is teen die kant van die monument aangebring. Die steen het die inskripsie “Taalmonument 100 jaar. 1893 tot 1993. Onthul deur Louis van der Watt,5 Administrateur”.
Die identifisering van die monument in Burgersdorp as ’n Afrikaanse taalmonument is in sigself omstrede. Dit is ’n monument ter ere van die Nederlandse taal, waarin sommige van Afrikaans se wortels te vinde is. Omdat Huigen (s.j.) en Die Afrikaner Handelshuis (2016) die taalmonument in Burgersdorp binne die konteks van Afrikaanse taalmonumente bespreek, word die monument ook hier bespreek.
Die onthulling was omstrede, maar nie tot dieselfde mate as die inwyding van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl nie. Die omstredenheid het gewentel rondom S.J. du Toit, die eerste leiersfiguur van die GRA. S.J. du Toit was by die onthulling teenwoordig, maar volgens D’Assonville (1999:291) is sy naam voor die opening verwyder van die lys van taalhelde wat aldaar aangeteken is. Die rede vir hierdie stap is nie verduidelik nie. Volgens D’Assonville (1999:291) weet “niemand wie daarvoor verantwoordelik was nie”. D’Assonville (1999:291) se weergawe van S.J. du Toit se eie uitspraak dat hy nooit geweet het wat die eintlike rede vir die verwydering van sy naam was nie, werp ook nie lig op die saak nie. ’n Moontlike verklaring is dat S.J. du Toit teen 1893 reeds ’n omstrede figuur was. Van Niekerk (s.j.) verklaar dat “Du Toit was a controversial figure in South African history who after being held in high esteem died as something of a pariah.”
Nienaber (1975a:249) verklaar dat S.J. du Toit ’n genie was, “maar met al die gebreke van ’n genie”. Hy dui aan dat S.J. du Toit se politieke oortuigings hom na 1891 ’n ongewilde figuur gemaak het (Nienaber 1975a:249, 250). Nienaber (1975a:249 en 250) rapporteer ’n ongedateerde gesprek met P.J. Malherbe, een van die stigterslede van die GRA, waartydens laasgenoemde van S.J du Toit gesê het:
[A]s u my vra waarom hy na 1891 tot ander politieke insigte gekom het; waarom hy hom gekeer het teen die heiligste nasionale aspirasies en oortuigings van sy volk en oom Paul se politiek in Transvaal beveg het … dan wil ek liewer nie daarop antwoord nie. Hierdie geheim sal later geopenbaar word, maar dat dit wel gebeur het, is tragies …
Nienaber (1975a:197) voeg by dat S.J. du Toit deur sy politieke ommeswaai “naderhand alleen gestaan [het] – die volk het hom verlaat en wat hy eers opgebou het … het hy nou weer afgebreek”. Nienaber (1975a:197) identifiseer 1891 as die jaar wat die gety in eie geledere teen S.J. du Toit gedraai het, ook onder sommige van die stigterslede van die GRA. P.J. Malherbe, soos hier bo aangehaal, was bloot diplomaties in sy kommentaar aan Nienaber.
Die skending van die monument in Burgersdorp is ook omstrede. Gedurende die Anglo-Boereoorlog is die standbeeld wat by die monument opgerig is, deur Britse troepe geskend. Lord Milner het die standbeeld gedurende die oorlog laat verwyder. Die standbeeld is in 1907 met ’n replika vervang. Die oorspronklike standbeeld is in 1939 in King William’s Town6 (nou bekend as Qonce) ontdek en is in 1957 in sy beskadigde toestand agter die replika in Burgersdorp opgerig.
4.2 Die wonder van Afrikaans (1959)7
Twee monumente en een skool is geïdentifiseer wat in 1959 ter herdenking van Die wonder van Afrikaans opgerig is.
4.2.1 Kroonstad (Vrystaat)
Die Afrikaanse Taalmonument in Kroonstad is in Jukskeipark opgerig. Sedert 1951 is Kroonstad die hoofkantoor van die Suid-Afrikaanse Jukskeiraad, gesetel op Jukskeipark. Die monument is op 28 Maart 1960 deur ene neef Ferdie van Rensburg onthul. (Die aanspreekvorme “neef” en “niggie” is destyds deur jukskeispelers gebruik.)
Die monument bestaan uit ’n oop Bybel van graniet met die woorde “Die wonder van Afrikaans 1959” daarop. Die Bybel lê op ’n vierkantige granietblok wat rus op ’n voetstuk van gemesselde granietklippe. Die embleem van die SA Jukskeiraad word ook uitgebeeld, en op ’n granietplaat aan die voetstuk is die inskripsie: “Opgerig deur die Jukskeispelers van Griekwaland-Wes. Onthul deur neef Ferdie van Rensburg 28.3.1960.”
Figuur 2. Die Taalmonument in Kroonstad
4.2.2 Welkom (Vrystaat)
Heelwat inligting is oor die Afrikaanse Taalmonument op Welkom beskikbaar. Die monument is in Van Riebeeckpark in Araratweg opgerig. Die taalmonument is voorgestel na ’n vergadering van plaaslike skoolhoofde, waartydens die rol van skole in Die wonder van Afrikaans-feesvieringe bespreek is. Daar is besluit om ’n komitee van 25 lede onder leiding van J. van Z. Alberts aan te wys om die inisiatief vir die oprigting van die monument te neem.
Die monument is ontwerp deur Gerhard Olivier, en Leon Roodt het die argiteksplanne opgestel. Laurika Postma was die beeldhouer van die bronskopstuk met ’n fakkel. Die gedenkteken is in die vorm van ’n prisma wat in sy geheel saamgestel is uit gelyksydige driehoeke. Die voetstuk is in die vorm van ’n driehoek wat met ysterklip uit die omgewing gebou is. Die boukoste was R6 000 (sowat R310 000 aangepas vir inflasie). Dit is nie bekend wie vir die betaling van die boukoste verantwoordelik was nie.
Op 23 Mei 1959 is die hoeksteenlegging van die monument deur D.F. Malherbe,8 emeritus professor en voormalige rektor van die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat, waargeneem. Op 20 Augustus 1960 is die onthulling ook deur Malherbe waargeneem nadat Mabel Jansen ’n tweede gedenksteen en S. du Toit ’n derde gedenksteen onthul het. Daar is geen inligting oor hierdie twee gedenkstene beskikbaar nie.
Figuur 3. Die Taalmonument op Welkom
4.2.3 eMalahleni (Witbank) (Mpumalanga)
’n Skool is in die destydse Witbank (nou eMalahleni) opgerig as deel van die feesvieringe ter herdenking van Die wonder van Afrikaans: Die Laerskool Taalfees in Alexanderstraat is in 1959 geopen (Laerskool Taalfees s.j.; sien ook Marx 1994:198). Volgens Marx (1994:43) is die Laerskool Taalfees een van vyf skoolname wat gebeure soos Die wonder van Afrikaans en die Taaljaar herdenk. Die vier ander skole wat Marx (1994:43) identifiseer, hou nie met taalgebeure of -simboliek verband nie.9
4.3 Taaljaar (1975)10
Die Suid-Afrikaanse regering het 1975 tot Taaljaar verklaar (LitNet 2010), en afgesien van die monument in die Paarl is verskeie ander Afrikaanse taalgedenkstrukture ter herdenking van die Afrikaanse taal ook in daardie tydperk opgerig. Die monument in die Paarl is breedvoerig hier bo bespreek en hierdie gedeelte handel oor ander Afrikaanse taalgedenkstrukture wat gedurende daardie tydperk opgerig is.
4.3.1 Aberdeen (Oos-Kaap)
Ulinda Theron het die Afrikaanse Taalmonument in Aberdeen vir doeleindes van hierdie navorsing geïdentifiseer. Die taalgedenkstruktuur is in die vorm van ’n monument op die hoek van Voortrekkerstraat en Meintjiesstraat voor die NG Kerk in Aberdeen. Die monument is op 26 September 1975 onthul.
Die monument bestaan uit ’n geboude granietpilaar waarop ’n oop boek uit marmer met die inskripsie “Handhaaf Afrikaans” rus. Die marmerboek rus teen ’n granietplaat met die afbeelding van ’n fakkel. Die woorde “Onthul tydens Taalfees 26 Sept. 1975” kom op die basis van die monument voor (sien ook SARHIS 2021).
Figuur 4. Die Afrikaanse Taalmonument in Aberdeen
4.3.2 Belfast (Mpumalanga)
Die taalgedenkstruktuur is in die vorm van ’n monument in Steven Masangorylaan in Belfast. Die monument is op 19 Augustus 1975 deur die burgemeester, CJ Kriek, onthul. Die monument bestaan uit ’n granietrots met ’n gedenkplaat daarop. ’n Fakkel is op die gedenkplaat afgebeeld en die volgende woorde verskyn daarop: “Afrikaanse Taaljaar 1875–1975, opgerig ter herdenking aan die Genootskap van Regte Afrikaners. Die hartslag van ’n volk bepaal die lewensterkte van sy taal. Onthul deur die burgemeester, raadslid CJ Kriek tydens die fakkelloop,11 Belfast, 19 Augustus 1975. Geskenk deur Impala Graniet Werke, Brits.”
Figuur 5. Die taalgedenkstruktuur in Belfast
4.3.3 Burgersfort (Mpumalanga)
Volgens Grobler (s.j.) is daar ’n taalgedenkstruktuur in die vorm van ’n gedenkplaat vir die Afrikaanse taal in Burgersfort wat 1975 gedateer is. Geen verdere inligting is oor hierdie gedenkplaat beskikbaar nie.
4.3.4 Delareyville (Noordwes)
Die taalgedenkstruktuur is in die vorm van ’n monument op Strijdomplein in Delareyville. Te oordeel aan die woorde op die voetstuk van die monument is dit op 14 September 1976 onthul. Dit is ’n gestileerde granietmonument met die wapen van die SA Junior Rapportryers op die voorkant daarvan afgebeeld. Daaronder staan “Afrikaans 1875–1975”. Die woorde “14.9.1976 Rapportryerskorps” kom op die voetstuk voor.
4.3.5 Ermelo (Mpumalanga)
Die taalgedenkstruktuur is in die vorm van ’n monument voor die NG Kerk tussen Jan van Riebeeck- en Kerkstraat in Ermelo. Die monument is op 2 September 1975 deur L. Rive, die hoofvoorsitter van die ATKB, onthul. Die monument is ’n granietrots wat op ’n gepoleerde, vierkantige basis staan. Aan die voorkant is ’n gepoleerde gedeelte met ’n inskripsie wat lui: “Afrikaans 1875–1975, Brug na die toekoms. Die Taalfakkels12 1975-09-02. Onthul deur L Rive Hoof-Voors ATKB. Geskenk deur Die Voortrekkers, Ermelo.”
4.3.6 Groblersdal (Mpumalanga)
Die taalgedenkstruktuur is in die vorm van ’n monument voor die dorpsbiblioteek in Markstaat op Groblersdal. Dit is onthul deur Christelle Schoeman, die eggenote van Hendrik Schoeman, destydse minister van landbou en ’n boer in die omgewing van Groblersdal. Die inskripsie op die monument, wat uit vier groot klippe bestaan, lui “Afrikaans: Ons perel van groot waarde. Taalfees. 1975.”
Figuur 6. Die taalgedenkstruktuur in Groblersdal. Foto deur artikelskrywer.
4.3.7 Hartswater (Noord-Kaap)
Die taalgedenkstruktuur is in die vorm van ’n Gedenknaald voor die Hoërskool Hartswater in D.F. Malanstraat op Hartswater. Geen verdere inligting is oor hierdie gedenkstruktuur beskikbaar nie.
4.3.8 Johannesburg (Gauteng)
Die taalgedenkstruktuur is in die vorm van ’n monument op die terrein van die hedendaagse Universiteit van Johannesburg (destydse Randse Afrikaanse Universiteit of RAU ten tye van die onthulling op 12 Augustus 1975) in Johannesburg. Daar is min inligting oor hierdie monument aangeteken. Die monument bestaan uit drie granietrotse wat van Paarlberg na Johannesburg vervoer is. Die inskripsie op die monument is “Smal swaard en blink”. Dit is die woorde waarmee N.P. Van Wyk Louw die taal beskryf het.
4.3.9 Keimoes (Noord-Kaap)
Die taalgedenkstruktuur is ’n Gedenktuin in die vorm van ’n fakkel. Geen verdere inligting is oor hierdie gedenkstruktuur beskikbaar nie.
4.3.10 Koster (Noordwes)
Die taalgedenkstruktuur is in die vorm van ’n fakkel met die inskripsie “Afrikaans – dit is ons Erns”, wat in ’n glaskas by ’n hoërskool op Koster bewaar word. Geen verdere inligting is oor hierdie gedenkstruktuur beskikbaar nie.
4.3.11 Lichtenburg (Noordwes)
Die taalgedenkstruktuur is in die vorm van ’n monument op die terrein van die stadsaal in Lichtenburg. Dit is in 1975 deur Koos Badenhorst onthul, maar die dag en maand van onthulling is nie aangeteken nie. Laurentius van Rouendal het die monument ontwerp en dit is deur Hennie Zietsman gebou. Die bronskunswerk bo-op die monument is deur Hennie Potgieter ontwerp en laat giet.
Die monument is opgerig met die bemiddeling van die Rapportryers. Dit is in die vorm van ’n oester, met ’n pêrel daarin. Dit simboliseer “Afrikaans, ons pêrel van groot waarde”, na aanleiding van die woorde wat Langenhoven vir Afrikaans gebruik het. Die oester se rand is uit siersteen, en sowel die skulp as die pêrel is met glasmosaïek in verskillende skakerings van wit oorgetrek.
4.3.12 Makhado (Louis Trichardt) (Limpopo)
Die taalgedenkstruktuur is in die vorm van ’n monument op ’n dorpsplein direk suid van die NG Kerk in Erasmusstraat in Makhado (die vroeëre Louis Trichardt). Die monument is op 10 Oktober 1975 onthul. Die monument bestaan uit ’n groot rots wat met ’n punt na bo in die grond geplant is. Dit het ’n voetstuk van bakstene en ’n gedenkplaat is daarop aangebring. Op die gedenkplaat is ’n kaart met die buitelyne van Suid-Afrika aangebring, met ’n afbeelding van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl en die naam Louis Trichardt13 in die middel van die kaart. Die inskripsie op die gedenkplaat lui: “AFRIKAANS, ons pêrel van groot waarde. Opgerig deur die Soutpansbergse Afrikaanse Sakekamer, 10 Oktober 1975, ter herdenking van die stigting van die GRA in 1875.”
4.3.13 Malmesbury (Wes-Kaap)
Die taalgedenkstruktuur is in die vorm van ’n gedenksteen voor die dorpsbiblioteek by Cross Hayeslaan 24 in Malmesbury. Geen verdere inligting is oor hierdie gedenkstruktuur beskikbaar nie.
4.3.14 Montagu (Wes-Kaap)
Volgens Grobler (s.j.) is daar ’n taalgedenkstruktuur in die vorm van ’n Afrikaanse Taalgedenkplaat op die Groot Trek Eeufees-Gedenkterrein op Montagu. Geen verdere inligting is beskikbaar nie.
4.3.15 Moorreesburg (Wes-Kaap)
Die taalgedenkstruktuur is in die vorm van ’n gedenkplaat voor die stadsaal van Moorreesburg, op die hoek van Kerk- en Pleinstraat. Geen verdere inligting is oor hierdie gedenkstruktuur beskikbaar nie.
4.3.16 Nigel (Gauteng)
Die taalgedenkstruktuur is in die vorm van ’n gedenkteken voor die stadsaal van Nigel in Hendrik Verwoerdstraat. Dit is onthul deur B.J. Vorster, die destydse eerste minister, destyds die parlementslid vir Nigel was. Dit is van belang dat Vorster meer as een gedenkteken vir Afrikaans onthul het. Geen verdere inligting is oor hierdie gedenkstruktuur beskikbaar nie.
4.3.17 Ohrigstad (Mpumalanga)
Die taalgedenkstruktuur is ’n gedenkteken by die Geloftefeesterrein, ongeveer 4 km buite Ohrigstad, langs die R36-pad na Hoedspruit. Dit kom voor asof die gedenkteken op 16 Augustus 1975 onthul is. Die gedenkteken bestaan uit ’n betonblad met voetspore daarin en ’n gedenkplaat met inskripsies in Afrikaans en Engels. In Afrikaans lui die inskripsie: “Taalfeesviering 16 Augustus 1975, Ohrigstad. Voetspore van draers van CP Hoogenhout-fakkel14 op eerste skof na Paarl vir onthulling van Afrikaanse Taalmonument op 10 Oktober 1975.”
4.3.18 Oos-Londen (Oos-Kaap)
Die taalgedenkstruktuur is in die vorm van ’n monument op die terrein van die Laerskool Kuswag in Oos-Londen. Die monument is op 19 September 1975 deur prof. M. Swart onthul. Die onthulling was deel van die Taaljaar-vieringe in Oos-Londen, wat drie dae geduur het. Die feesviering het saamgeval met die aankoms van een van die GRA-fakkels15 onderweg na die Afrikaanse Taalmonument se opening in die Paarl op 10 Oktober 1975 (FAK s.j.b.).
A.J.P. Opperman, destydse skoolhoof van die Laerskool Kuswag in Oos-Londen, het voorgestel dat ’n monument opgerig word. Opperman het die monument ontwerp en die skoolkomitee van Laerskool Kuswag het die ontwerp goedgekeur (FAK s.j.b.). Die monument is deur die firma EE Bolt (Edms.) Bpk. opgerig en die koste het ongeveer R2 000 (sowat R102 500 aangepas vir inflasie) bedra (FAK s.j.b.). Dit is nie bekend wie die koste van die monument gedra het nie.
Die voetstuk bestaan uit ’n wit-en-swart mosaïekplaveisel waarop twee granietsuile en ’n vlagpaal aangebring is. Op die groter granietsuil is die inskripsie: “1975, O moe-der-taal, O soetste taal, Jou het ek lief bo alles”, die woorde van die digter C.F. Visser. Op die keersy van die groter suil is ’n inskripsie wat lui: “Onthul op 19 Sept. 1975 deur prof. dr. M.J. Swart by die geleentheid van die Afrikaanse Taalfees.” Die kleiner granietsuil het die woorde: “GRA 1875”. Die twee suile word deur staalpype verbind wat die invloed van die GRA op die groei van die taal uitbeeld. Albei suile wys na ’n vlagpaal, wat simbolies van die Republiek van Suid-Afrika is.
4.3.19 Petrus Steyn (Vrystaat)
Die taalgedenkstruktuur is in die vorm van ’n monument op die Dirkie Uys-terrein op die hoek van Reitz- en Kerkstraat in Petrus Steyn. Die monument is tydens ’n taalfees op 14 Augustus 1975 onthul.
Die monument bestaan uit ronde klippe van verskillende vorme en groottes wat deur die deelnemers aan ’n taalfees op 14 Augustus 1975 opgestapel en vasgemessel is (Petrus Steyn article s.j.). In die middel daarvan is ’n vierkantige blok met ’n gedenkplaat met die inskripsie: “14 Augustus 1875, Die Afrikaanse Taalfees, 14 Augustus 1975”.
Figuur 7. Die monument op Petrus Steyn
4.3.20 Reddersburg (Vrystaat)
Die taalgedenkstruktuur is in die vorm van ’n gedenkplaat op die dorpsplein, langs Van Riebeeckstraat in Reddersburg (Vrystaat). Dit is in September 1975 onthul. Bo die gedenkplaat is ’n wapen met die leuse: “Geloof en arbeid”. Die inskripsie op die gedenkplaat lui: “Afrikaanse Taalfees Reddersburg, Sept 1975, Ons taal ons trots.”
4.3.21 Redelinghuys (Wes-Kaap)
Daar is ’n gedenkstruktuur voor die munisipale biblioteek in Voortrekkerstraat in Redelinghuys. Geen verdere inligting is oor hierdie gedenkstruktuur beskikbaar nie.
4.3.22 Reitz (Vrystaat)
Die taalgedenkstruktuur is in die vorm van ’n gedenkplaat voor die NG Moederkerk in Reitz. Dit is op 30 Augustus 1975 deur die burgemeester, P.J. Geyer, onthul. Die gedenkplaat is teen die kant van die monument aangebring, wat ook ander aspekte van die Afrikanergeskiedenis gedenk. Die woorde op die gedenkplaat lui: “Ter herdenking aan die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners, 14 Augustus 1875 in die Paarl. Ons bring hulde aan die eerste taalstryders. Onthul deur die burgemeester, rdl. PJ Geyer, Reitz, 30 Augustus 1975.”
4.3.23 Riebeeck-Kasteel (Wes-Kaap)
Die ATM se bronne toon aan dat daar ’n Afrikaanse taalgedenkstruktuur in Riebeeck-Wes is, eerder as in Riebeeck-Kasteel. Die twee dorpe is sowat ses kilometer van mekaar. Dit is nie duidelik of hier naamsverwarring ter sprake is nie. ’n Ander moontlikheid is dat daar inderdaad Afrikaanse taalgedenkstrukture op beide hierdie dorpe is, maar dit is onwaarskynlik. Laasgenoemde moontlikheid word dus buite rekening gelaat in die aanbevelings vir verdere navorsing.
Volgens Murphy (2020) is die taalgedenkstruktuur in die vorm van ’n Afrikaanse taalmonument geleë op die terrein van De Oude Kerk Museum, Hoofstraat 5, Riebeeck-Kasteel. Die monument is op 14 Augustus 1975 onthul. Murphy (2020) verklaar dat “[t]hree memorials stand before De Oude Kerk (now Riebeek Valley Museum, a Provincial Heritage Site) in Riebeek Kasteel. On the left, one to an expedition led by Pieter Cruythoff in 1661, far right to Simon van der Stel’s passing in 1685, and one to the Afrikaans language in tandem with the Paarl Language Monument, erected in 1975.”
Chris Murphy het per e-pos (Murphy 2022) aangedui dat die monument in die vorm van ’n granietsteen langs die ingang tot die museumgebou is. Op die granietsteen is ’n fakkel en ’n boekrol met die woorde “Ons taal” wat daarop verskyn, afgebeeld. Die datum 14.8.1975 is ook op die monument aangebring.
4.3.24 Sannieshof (Noordwes)
Die taalgedenkstruktuur is in die vorm van ’n gedenkplaat voor die munisipale gebou in Bovenstraat in Sannieshof. Geen verdere inligting is oor hierdie gedenkstruktuur beskikbaar nie.
4.3.25 Springbok (Noord-Kaap)
Gideon Wentink het ’n taalgedenkstruktuur in die vorm van ’n Afrikaanse Taalmonument in Springbok geïdentifiseer na aanleiding van die radioprogram op Pretoria FM op 24 Junie 2022 waarna hier onder in ’n eindnota verwys word (Wentink 2022). Die monument is op die terrein van die Hoërskool Namakwaland in Luckhoffstraat in Springbok. Min is oor die monument bekend.
Die monument is in die vorm van ’n gestileerde “A” op ’n betonvoetstuk. Aan die voorkant is ’n gedenkplaat met die woorde “Die groei van Afrikaans”. Teen die kant van die monument is die datums 1875 en 1975 aangebring, wat die indruk laat dat die monument tydens die Taaljaar-vieringe van 1975 onthul is.
4.3.26 Trompsburg (Vrystaat)
Volgens Grobler (s.j.) is daar ’n taalgedenkstruktuur in die vorm van ’n Afrikaanse taalmonument in Trompsburg. Geen verdere inligting is oor hierdie monument beskikbaar nie.
4.3.27 Touwsrivier (Wes-Kaap)
Die taalgedenkstruktuur is in die vorm van ’n monument in Gideon Joubertpark op die hoek van Jane en Pienaarstraat op Touwsrivier. Die monument is op 27 Maart 1976 onthul. Dit is bekend dat ’n kompetisie vir die ontwerp van die monument uitgeskryf is. Die ontwerpkompetisie is gewen deur ds Brand, destyds ’n sendeling op die dorp. Die monument is ’n eenvoudige gedenknaald op ’n baksteenvoetstuk. Dit stel die verskillende fases van die groei van die Afrikaanse taal voor.
4.3.28 Vanrhynsdorp (Noord-Kaap)
Die taalgedenkstruktuur is in die vorm van ’n marmersteen voor die biblioteek langs die R27-roete deur Vanrhynsdorp. Geen verdere inligting is oor hierdie gedenkstruktuur beskikbaar nie.
4.3.29 Ventersdorp (Vrystaat)
Die taalgedenkstruktuur is in die vorm van ’n monument op die terrein van die openbare biblioteek in Ventersdorp. Die monument is op 14 Augustus 1975 onthul. Die monument is tot stand gebring deur die werk van die burgemeester van Ventersdorp, M. Vogel, en ’n plaaslike onderwyser, P. Theron. Dit is gebou deur Dirk Brits. Die monument is in die vorm van ’n driehoekige marmersteen op ’n voetstuk van sierstene.
4.3.30 Worcester (Wes-Kaap)
Die taalgedenkstruktuur is in die vorm van ’n monument in die Tuin van Herinnering op Kerkplein teen Hoogstraat in Worcester se middedorp. Die monument is in 1975 onthul, maar die presiese dag en datum is nie bekend nie. Die monument is in die vorm van ’n gedenknaald met ’n fakkel bo-op en het geen inskripsie nie. Daar is ’n oop boek op die band van die fakkel gegraveer.
4.4 Taalherdenking in Namibië
Een Afrikaanse taalmonument is in Namibië geïdentifiseer. Die monument is op die terrein van die Erfenis Kultuursentrum by Bismarckstraat 61, Windhoek. Die monument is op 8 November 201416 deur Dana Snyman onthul (Voortrekkerlewe 2015:53). Die monument is opgerig ter herdenking van Afrikaans se 90 jaar as amptelike landstaal (Langner 2021:320). Volgens Langner en Plessis (2015:76) is dit die heel eerste (en enigste) Afrikaanse taalmonument in Namibië.
Volgens Voortrekkerlewe (2015:52) het “[v]erskeie kultuurorganisasies, waaronder die FAK, Voortrekkers en ATKV in Namibië […] ’n monument opgerig”. Die monument is in die vorm van ’n baksteenstruktuur met ’n betonblad waarop ’n halfmaanvormige staalstruktuur rus. Die woorde van die gedig “Namib” deur Ernst Schlengemann kom op die staalstruktuur voor (Voortrekkerspore 2016). Aan die voorkant van die monument is ’n gedenkplaat met besonderhede oor die oprigting en onthulling van die monument. Voortrekkerlewe (2015:52) beskryf die monument as “die heel eerste Afrikaanse taalmonument in Namibië”. Die woorde op die gedenkplaat dui ook aan dat dit die eerste Afrikaanse taalmonument in Namibië is. Voorts dui die gedenkplaat aan dat die monument opgerig is deur die ATKV, FAK, Netwerk, Die Voortrekkers in Namibië en Die Voortrekkers in Suid-Afrika (Voortrekkerspore 2016).
Polla Steyn het per e-pos (Steyn 2022) aangedui dat daar op 5 September 1975 ’n Afrikaanse taalfees op Otjiwarongo in Namibië (destyds Suidwes-Afrika) plaasgevind het. By daardie geleentheid is een van die taalfakkels op ’n besoek aan die dorp gebring.
Volgens Steyn het die gemeenskap van Otjiwarongo by hierdie geleentheid ’n groeteboodskap aan die draers van die taalfakkel oorhandig. Die groeteboodskap is in bewaring by die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl. Die groeteboodskap is in die vorm van ’n ererol met ’n afbeelding van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl en die dorpswapen van Otjiwarongo in die agtergrond. Die boodskap lui:
Boodskap
Afrikaanse Taalfees
Otjiwarongo 5 September 1975
Die gemeenskap van Otjiwarongo verbind hom in die gees eendragtig met die diepste gevoelens van die Afrikaner-volk waar hy sy taalfees vier. Dankbaar, opreg sê ons: Veels geluk.
Binne honderd jaar het die Boertaal inderdaad kultuur-taal geword. Mag Afrikaans voortaan:
• Die glansende werktuig wees waarmee die Afrikaner telkens weer sy onvervangbare waardes bekragtig;
• Die suiwer draer van sy hoogste ideale waarmee nuwe vergesigte vir die nageslagte gepeil word;
• Die kragtige band waarmee die Afrikaner sy Calvinistiese erfenis en onwrikbare geloof sal bevestig.
In nederigheid dra ons die lotsbestemming van hierdie volk in sy besondere vaderland op aan die ewige God.
Die ererol is namens die Taalfeeskomitee onderteken deur ds, A.P. van der Colff (voorsitter) en B.B. Jonker (sekretaris), P.M. Snyman, J. Steenkamp en P.S. Steyn. Die e-pos waarna hier bo verwys is (Steyn 2022), is van Steyn, die voormalige lid van hierdie komitee, ontvang.
Die draers van die taalfakkel wat Suidwes-Afrika besoek het, het hierdie groeteboodskap saam met ander groeteboodskappe uit die destydse Suidwes-Afrika na die Paarl geneem vir die opening van die Afrikaanse Taalmonument op 10 Oktober 1975. Een voorbeeld van meerdere groeteboodskappe is die oorhandiging van sodanige boodskappe tydens die Afrikaanse Taalfees wat op 12 September 1975 in die J.G.H. van der Wath-stadion in Windhoek in die destydse Suidwes-Afrika aangebied is (Die Suidwes-Afrikaner 1975a; 1975b).
Die fees was onder meer in die vorm van vlotte wat deur Windhoek tot by die stadion beweeg het. Skole van regoor Suidwes-Afrika het leerders afgevaardig om die fees by te woon (Die Suidwes-Afrikaner 1975a). Die geleentheidspreker was die administrateur van die destydse Suidwes-Afrika, J.G.H. van der Wath (Die Suidwes-Afrikaner 1975b). By die fees is onder meer groeteboodskappe voorgelees wat aan die fakkeldraers oorhandig is om saam te neem na die Paarl vir die opening van die Afrikaanse Taalmonument aldaar op 10 Oktober 1975 (Die Suidwes-Afrikaner 1975a). Uit die groeteboodskap blyk dit dat die klem val op die Afrikaners en dat die herdenking van Afrikaans as taal waarskynlik net ’n geleentheid was om die lot van die Afrikaners te beklemtoon.
5. Verdere soektog en onderhoud van gedenkstrukture
Uit die vorige afdelings blyk dit dat daar ’n groot aantal gedenkstrukture ter ere van Afrikaans bestaan. Voorts is daar na bewering ook gedenkstrukture ter ere van Afrikaans in Ladismith (Oos-Kaap), Meyerton, Milnerton, Piketberg, Postmasburg, Potchefstroom, Schweizer-Reneke, Sishen en Vanwyksvlei, waarvan geen besonderhede deur die ATM aangeteken is nie, en geen inligting van enige ander bronne verkry kon word nie. Gevolglik is navorsing dus nodig om (i) te bepaal of daar wel verdere ongeïdentifiseerde gedenkstrukture bestaan; en (ii) meer inligting te bekom oor die gedenkstrukture waaroor min inligting beskikbaar is.17
Sommige van die taalgedenkstrukture waarvoor rekords beskikbaar is, is verwaarloos. Na groot drome, byvoorbeeld in 1975 as Taaljaar, is baie van hierdie gedenkstrukture vir Afrikaans vergete. Dit is jammer dat daar groot entoesiasme by regeringstrukture en die burgerlike samelewing vir nuwe gedenkstruture is, maar min energie vir die onderhoud en behoud daarvan. Die verwaarlosing van kultuurbates is egter nie net tot Afrikaanse taalmonumente en ander gedenkstrukture beperk nie.
Een onlangse voorbeeld van die verwaarlosing van kultuurbates is die Cradock Four Memorial in Cradock se Lingelihle-dorpsgebied (Cradock Four Memorial s.j.). Die gedenkteken is opgerig ter herinnering aan die Cradock-vier, Fort Calata, Matthew Goniwe, Sicelo Mhlauli en Sparrow Mkonto (Cradock Four Memorial s.j.). Die gedenkteken is in die vorm van ’n tuin van herinnering en is op 21 Maart 2019 ingewy. Cradock Four Memorial (s.j.) verklaar dat “[t]he memorial […] has subsequently fallen into grave disrepair”. In sy beskrywing van die gedenkteken sê Malonde (2021) dat “Uncut grass, corroding concrete and material pieces with names of the monument’s honourees scattered on the ground describe the eyesore that the Cradock Four Garden of Remembrance has become.” Inderdaad vind verwaarlosing van kultuurbates oor die hele kultuurspektrum plaas.
6. Gevolgtrekkings
Die oprigting van die Afrikaanse Taalmonument teen die hange van Paarlberg het ná baie jare van harde werk en omstrede optredes gestalte gekry. Ongelukkig is die monument steeds omstrede, selfs meer as 45 jaar na die inwyding daarvan.
Die monument word ondersteun deur die Afrikaanse Taalmuseum in Huis Gideon Malherbe en die twee instellings dien saam as simbole ter herdenking van die vestiging van ’n nuwe taal in Suid-Afrika. Die museum funksioneer as ’n Afrikaanse taalnavorsingsinstituut, maar of dit werklik voldoen aan al die eise van so ’n navorsingsinstituut, is tans te bevraagteken.
Min literatuur is beskikbaar oor die fakkelloop met taalfakkels wat op 14 Augustus 1975 by die Voortrekkermonument begin en op 10 Oktober 1975 by die opening van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl geëindig het. Die fakkels is onder meer by die onthulling van sekere Afrikaanse taalgedenkstrukture ter sprake. Dit is ’n area vir verdere navorsing.
Terwyl die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl wyd bekend is, het ander Afrikaanse taalgedenkstrukture in Suid-Afrika vergete geraak. Sekere van hierdie taalgedenkstrukture het in verwaarlosing verval. Verwaarlosing is egter nie beperk tot gedenkstrukture wat met die Afrikaanse taal te make het, of deur die regering voor die demokratiese verkiesing van 1994 opgerig is nie. Die verwaarlooste gedenkstruktuur in Cradock, wat ná 1994 opgerig is, is reeds as voorbeeld genoem.
Verdere navorsing is nodig oor die taalgedenkstrukture vir die Afrikaanse taal wat blykbaar bestaan, maar waarvoor geen inligting beskikbaar is nie, maar ook oor die opsporing van moontlike strukture van hierdie aard waaroor daar geen rekords bestaan nie. Voorts is meer navorsing ook nodig oor gedenkstrukture vir die Afrikaanse taal waaroor min inligting aangeteken is.
Die oogmerk met die navorsing is om opnuut aandag te vestig op gedenkstrukture vir die Afrikaanse taal wat vergeet is. Daar is geen sentrale rekord van sodanige strukture nie en daar is ook geen omvattende gesaghebbende literatuur oor die onderwerp nie. Hierdie navorsing is die eerste stap onderweg na omvattende literatuur oor hierdie onderwerp. Verskeie Afrikaanse taalgedenkstrukture is geïdentifiseer en beskryf, terwyl verdere navorsingsoogmerke aangestip en omskryf word. Die bydrae van hierdie artikel lê daarin dat dit minder-bekende inligting na vore bring.
Bibliografie
Afrikaanse Taalmonumentkomitee. Ongepubliseerde notules. 1942–1975.
ATM. 2021. Annual Report 2020/21. http://www.taalmuseum.co.za/wp-content/uploads/2022/06/Taalmonument-annual-report-20202021.pdf (9 Junie 2022 geraadpleeg).
—. 2022. Mediaverklaring, 18 Mei. https://www.litnet.co.za/persverklaring-deur-die-afrikaanse-taalmuseum-en-monument-oor-n-moontlike-naamsverandering-vir-die-instelling (9 Junie 2022 geraadpleeg).
ATM monumentboekie. S.j. Ongepubliseerde inligtingstuk.
Beningfield, J. 2004. Native lands: Nation, language and landscape in the Taal Monument, Paarl, South Africa. Social Identities, 10(4):509–25.
—. 2006. The frightened land: Land, landscape and politics in South Africa in the twentieth century. Londen: Routledge.
Brunn S. en R. Kehrein (reds.). 2020. Handbook of the changing world language map. Cham, Switserland: Springer.
Castañeda-Hernández, G. 2004. Navigating through treacherous waters: The translation of geographical names. Translation Journal, 8(2). https://translationjournal.net/journal/28names.htm (6 Oktober 2022 geraadpleeg).
Carstens, W.A.M. en E.H. Raidt. 2017. Die storie van Afrikaans uit Europa en van Afrika. Deel 1. Pretoria: Protea Boekhuis.
—. 2019. Die store van Afrikaans uit Europa en van Afrika. Deel 2. Pretoria: Protea Boekhuis.
Cattermole, P. 2008. Architectural excellence: 500 iconic buildings. Ontario: Firefly Books.
Coombes, A.E. 2003. History after apartheid: Visual culture and public memory in a democratic South Africa. Durham: Duke University Press.
Cradock Four Memorial. s.j. https://www.sa-venues.com/attractionsec/cradock-four-memorial.php (21 Junie 2022 geraadpleeg).
D’Assonville, V.E. 1999. S.J. du Toit van die Paarl (1847–1911). Weltevredenpark: Marnix.
De Klerk, W.A. 1974. Klein reis deur Drakenstein. Johannesburg: Perskor.
Die Afrikaner Handelshuis. 2016. Die Eerste Taalmonument in Suid-Afrika. 26 Desember. https://afrikander.com/blogs/news/die-eerste-taalmonument-in-suid-afrika (8 Junie 2022 geraadpleeg).
Die Afrikaanse Taalmonument. 2014. Ongepubliseerde inligtingsboekie.
Die Afrikaanse Taalmuseum. 2015. Ongepubliseerde inligtingspamflet.
Die Burger. 1971. Die eg ou-Kaapse gaan tot niet. 2 November.
—. 1975. Veertigduisend by die Taalfees. 11 Oktober.
Die Suidwes-Afrikaner. 1975a. Taalfees in hoofstad. 12 September.
—. 1975b. Ons taal moet gehandhaaf word. 16 September.
Eldridge, R. 2003. An introduction to the philosophy of art. Cambridge: Cambridge University Press.
FAK. S.j.a. Afrikaanse Taalmonument, Paarl. https://www.afrikanergeskiedenis.co.za/generaals/monumente-en-erfenisterreine/afrikaanse-taalmonument-paarl (24 Junie 2022 en 30 September 2022 geraadpleeg).
—. S.j.b. Genootskap van Regte Afrikaners, Oos-Londen. https://www.afrikanergeskiedenis.co.za/presidente/monumente-en-erfenisterreine/genootskap-van-regte-afrikaners-oos-londen (21 Junie 2022 geraadpleeg).
Geldenhuys, D.J.C. 1971. Verslag namens die ATMK. Die Afrikaanse taalmonument: verslag oor fondsinsameling en bevordering van Afrikaans. Bondgenoot, 17(1):2–3.
Grobler, J. S.j. Gedenktekens in Suid-Afrika. Privaatpublikasie. http://www.boererepublieke.co.za/wp-content/uploads/2013/09/Gedenktekens-in-Suid-Afrika.pdf (29 Junie 2022 geraadpleeg).
Grundlingh, A.M. en S. Huigen (reds.). 2008. Van volksmoeder tot Fokofpolisiekar: Kritiese opstelle oor Afrikaanse herinneringsplekke. Stellenbosch: SunPress.
Hendricks, F. en C. Dyers (reds.). 2016. Kaaps in fokus. Stellenbosch: African Sun Media.
Heyns, T. 2022. Minister weier glo petisie oor Taalmonument. Maroela Media, 8 Junie. https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/minister-weier-glo-petisie-oor-taalmonument (9 Junie 2022 geraadpleeg).
Hugo, D. 2010. Die ontstaan van die Afrikaanse Taalmonument en -museum. LitNet. https://argief.litnet.co.za/article.php?news_id=91111 (24 Augustus 2022 geraadpleeg).
Hugo, D. (red.). 2009. Halala Afrikaans. Pretoria: Protea Boekhuis.
Huigen, S. S.j. Reshaping remembrance – Language monuments. Rozenberg Quarterly. https://rozenbergquarterly.com/reshaping-remembrance-language-monuments (20 Junie 2022 geraadpleeg).
—. 2008. Taalmonumente. In Grundlingh en Huigen (reds.) 2008.
IMLM-webwerf. S.j. International Mother Language Monument. https://www.imlmcardiff.wales (18 Junie 2022 geraadpleeg).
Kannemeyer, J.C. 1984. Die geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. https://www.dbnl.org/tekst/kann003gesk01_01/index.php (30 September 2022 geraadpleeg).
—. 1996. Langenhoven: ’n Lewe. Tafelberg: Kaapstad.
Kotzé, D.J. 1992. Van die GRA tot Huis Gideon Malherbe. Die bydrae van die GRA tot die wordingsgeskiedenis van Afrikaans. Paarl: Afrikaanse Taalmuseum.
Laerskool Taalfees. S.j. https://www.taalfees.org (8 Julie 2022 geraadpleeg).
Langner, D. 2021. Die Voortrekkers: Hou koers. Pretoria: Die Voortrekkers.
Langner, D. en D. du Plessis. 2015. Taalpioniers. Pretoria: FAK.
Le Cordeur, M. 2010. Die rol van Islam in Afrikaans: Afrikaans behoort aan almal wat dit praat, skryf en liefhet. Referaat gelewer by ATKV-kongres, Goudini, 27 Februarie.
LitNet. 2010. Die ontstaan van die Afrikaanse Taalmonument en -museum. https://argief.litnet.co.za/article.php?news_id=91111 (8 Junie 2022 geraadpleeg).
Malonde, Z. 2021. Foundation laments sad state of Cradock Four Memorial: Call for public-private partnership to maintain garden of remembrance honouring activists. Dispatch Live, 18 Februarie. https://www.dispatchlive.co.za/news/2021-02-18-foundation-laments-sad-state-of-cradock-four-memorial (20 Junie 2022 geraadpleeg).
Marx, I.E. 1994. ’n Onomastiese studie van skoolname by Afrikaansmediumskole. MA-verhandeling, Unisa. https://uir.unisa.ac.za/bitstream/handle/10500/18138/dissertation_marx_ie.pdf?sequence=1&isAllowed=y (8 Julie 2022 geraadpleeg).
Müller, D. 2003. Skryf Afrikaans van A tot Z. Pharos: Kaapstad.
Murphy, C. 2020. Some West Coast memorials and monuments. 19 Augustus. https://www.theheritageportal.co.za/article/some-west-coast-memorials-and-monuments (28 Junie 2022 geraadpleeg).
—. 2022. E-pos. 28 Junie.
Nienaber, G.S. en P.J. Nienaber. 1967. Die opkoms van Afrikaans as kultuurtaal. 10de druk. Pretoria: Van Schaik.
Nienaber, M. 2022. G’n reaksie op FAK-versoekskrif aan minister oor monument. Netwerk24, 8 Junie. https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/gn-reaksie-op-fak-versoekskrif-aan-minister-oor-monument-20220608 (9 Junie 2022 geraadpleeg).
Nienaber, P.J. 1975a. Eerste sooie. Johannesburg: Perskor.
—. 1975b. Ons drie taalmonumente. Die Huisgenoot, 8 Augustus, ble. 42–5. https://collections.nwu.ac.za/dbtw-wpd/textbases/bibliografie-afrikaans/documents-dbat/huisgenoot_8aug1975_42-45.pdf.
Pakendorf, G. 1992. W.A. de Klerk is in pylvak, maar sy vuur is nog nie geblus. Die Burger. http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1992/03/07/11/14.html (5 Julie 2022 geraadpleeg).
Parliamentary Question. 2022. National Assembly: Question No. 2130-2022. Written reply: Internal Question Paper No. 20-2022. https://www.parliament.gov.za/storage/app/media/Docs/exe_rq_na/6e18a47e-07a4-4464-87d0-fdd082851e3a.pdf (16 Junie 2022 geraadpleeg).
Petrus Steyn. Artikel. S.j. https://www.fum.wiki/wiki/Petrus_Steyn#cite_note-5 (20 Junie 2022 geraadpleeg).
Pieters, H. S.j. The Taalmonument: Monument for what? M-verhandeling, Universiteit van Maastricht, België.
Rossouw, J. 2022a. Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl: 80 jaar van kontroversie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 62(3):588–605.
—. 2022b. Afrikaans is daardie jaar landwyd gedenk. Beeld, 9 Julie.
SARHIS. 2021. Monuments and memorials protected under section 37 of the NHRA. https://sahris.sahra.org.za/sites/dc10namm0035 (24 Augustus geraadpleeg).
Smith, S. 2013. Monumentalising language: Visitor experience and meaning making at the Afrikaanse Taalmonument. Doktorale proefskrif, Southern Cross Universiteit, Lismore, Australië.
Steyn, P. 2022. E-pos. 7 Julie.
Ströh, K. 2021. Monumente, gedenktekens en interessanthede in Suid-Afrika. http://monument-sa.co.za/afrikaanse-taalmonument-burgersdorp-paarl-welkom-petrus-steyn-meyerton (9 Junie 2022 geraadpleeg).
Sunday Times. 1975. Top Nats intervene, 27 April.
Van Niekerk, A. 2000. Die Afrikaanse Taalmonument: Afrikaans vra skeppende, nuwe denke. Die Taalgenoot, 69(8/9):6–7.
Van Niekerk, L.E. S.j. Du Toit, Stephanus Jacobus: 1867–1911. Dutch Reformed Church, South Africa. Dictionary of African Christian Biography. https://dacb.org/stories/southafrica/dutoit-stephanus2 (30 September 2022 geraadpleeg).
Van Rensburg, C. 2012. So kry ons Afrikaans. Pretoria: Lapa Uitgewers.
Van Rooyen, J.G. 1975. Die Taalmonument te Burgersdorp. Handhaaf, 12(5):10–1.
Van Wijk, J.C. 2014. Taalmonument. Tokai: Historical Media.
Van Zyl, A. 2013. Die invloed van die slawe op die vorming van Afrikaans. Lesing gelewer by ATM-slawedagviering, Paarl, 5 Desember.
—. Afrikaans Language Monument: A contested monument for a contested language. In Brunn en Kehrein (reds.) 2020.
Van Zyl, A. en J. Rossouw. 2016. Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl: 40 jaar later. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(2/1):295–313.
Venter, H. 1959. Die wonder van Afrikaans. Koers, XXVI(10):329–33.
Vorster, B.J. Openingstoespraak (klankopname en transkripsie in die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se besit).
Voortrekkerlewe. 2015. Hou Koers-jaarblad. https://voortrekkers.co.za/wp-content/uploads/2018/09/Voortrekkerlewe-2015.pdf (24 Augustus 2022 geraadpleeg).
Voortrekkerspore. 2016. Voortrekkerspore 1931–2016. https://voortrekkers.co.za/wp-content/uploads/2018/09/Voortrekkerspore-2016.pdf (24 Augustus 2022 geraadpleeg).
Wentink, G.J. 2022. E-pos. 24 Junie.
Eindnotas
1 Die artikel weerspieël die persoonlike siening en mening van die skrywer en moet nie aan bepaalde instansies toegeskryf word nie. Die kommentaar van anonieme keurders en hul voorstelle ter verbetering van die artikel word met dank erken. Enige foute of weglatings bly egter die verantwoordelikheid van die skrywer.
2 Hierdie afdeling is gebaseer op Van Zyl en Rossouw (2016), wat vir ’n meer omvattende bespreking geraadpleeg kan word.
3 Die artikelskrywer is verwant aan P.J. Malherbe.
4 Rossouw (s.j.) kan vir ’n bespreking van onlangse omstrede uitsprake deur die Minister van Sport, Kuns en Kultuur oor die naam van die Afrikaanse Taalmonument geraadpleeg word. Sekere aspekte van die historiese kritiek is ook deur Van Zyl (2020) en Van Zyl en Rossouw (2016) bespreek.
5 Van der Watt was vanaf Augustus 1991 tot 7 Mei 1994 administrateur van die Oranje-Vrystaat.
6 Die vertaling van name van persone en plekke bly ’n interessante probleem. London (in Engels) is Londen in Afrikaans en soortgelyk is Cape Town in Afrikaans Kaapstad. Moet King William’s Town dan in Afrikaans Koning Willem se Stad wees? Volgens Castañeda-Hernández (2004) is die korrekte benadering ’n “sort of rule of thumb that when the translation of a geographical entity is not available, or it is not known to the translator, the best solution is to keep the place’s name in its original language”. Müller (2003:389) verduidelik dat die Afrikaanse pleknaam in Afrikaanse teks gebruik moet word “(w)aar sowel ’n Afrikaanse as Engelse weergawe van dieselfde pleknaam bestaan”. Voorts verduidelik Müller (2003:389) dat “(s)ekere Engelse name wat ’n vertaalbare deel insluit, [...] egter net so in Afrikaans gebruik” word en noem dan King William’s Town as een voorbeeld van ’n pleknaam wat nie vertaal word nie. Gevolglik word algemeen-aanvaarde plekname in hierdie artikel gebruik, met sommige plekname wat vertaal is weens algemene gebruik, byvoorbeeld in die geval van Namibië. Castañeda-Hernández (2004) verklaar inderdaad dat “the translation of place names is not the most rational of human activities”.
7 Behalwe waar anders aangedui, is hierdie afdeling van die navorsing gebaseer op ’n ongepubliseerde inligtingstuk van die ATM.
8 D.F. Malherbe was die seun van P.J. Malherbe, ’n stigterslid van die GRA.
9 Die betrokke skole is Hoërskool Amajuba in Newcastle, Primêre Skool Gelofte in Pinetown, Laerskool Voortrekker-Eeufees in Pretoria en Laerskool Vryheidsmonument in Vereeniging.
10 Behalwe waar anders aangedui, is hierdie afdeling van die navorsing gebaseer op ’n ongepubliseerde inligtingstuk van die ATM.
11 Dit is ’n verwysing na die taalfakkels wat van Pretoria na die Paarl onderweg was.
12 Dit is ’n verdere verwysing na die taalfakkels wat van Pretoria na die Paarl onderweg was.
13 Louis Trichardt was ’n Voortrekkerleier.
14 Dit is ’n verdere verwysing na die taalfakkels wat van Pretoria na die Paarl onderweg was.
15 Dit is ’n verdere verwysing na die taalfakkels wat van Pretoria na die Paarl onderweg was.
16 Volgens Voortrekkerspore (2016) het die onthulling in 2015 plaasgevind; die gedenkplaat op die Monument meld egter 8 November 2014 (Voortrekkers 2015:53).
17 Ek het reeds ’n poging aangewend om openbare belangstelling vir die navorsingsprojek oor onbekende en onaangetekende Afrikaanse taalgedenkstrukture aan te wakker en om ’n openbare “soektog” na sodanige strukture van stapel te stuur. Op 24 Junie 2022 is luisteraars in die oggendprogram op Pretoria FM versoek om enige moontlike inligting per e-pos aan my te stuur. Voorts is die versoek vir inligting ook op die Facebook-bladsy van Pretoria FM geplaas. ’n Versoek vir inligting oor Afrikaanse gedenkstrukture is ook in die pers gerig.
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.
The post Verskeie Afrikaanse taalgedenkstrukture en een Afrikaanse Taalmuseum appeared first on LitNet.