Quantcast
Viewing all articles
Browse latest Browse all 795

Israel en die Palestyne: Is daar ’n bewind van sistematiese onderdrukking wat ’n nuwe apartheid uitmaak?

Israel en die Palestyne: Is daar ’n bewind van sistematiese onderdrukking wat ’n nuwe apartheid uitmaak?

Robert Moore, Departement Sosiale Wetenskappe, Akademia

LitNet Akademies Jaargang 19(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Apartheid is ’n stelsel van geïnstitusionaliseerde ongelykheid en onderdrukking wat op ras gebaseer is, met die doel daarvan die oorheersing van een rassegroep oor ander. Israel word vandag deur menseregtegroepe en in die internasionale media daarvan beskuldig dat hulle beleid en wetgewing afdwing wat op apartheid neerkom. Dit behels onder andere die politieke en ekonomiese onderdrukking van die Palestyne, hoofsaaklik in die Wesoewer, deur die Israelse staat, en spesiale voorregte wat Israel net aan Jode toestaan. Die doel van hierdie artikel is om ’n polities-filosofiese definisie van apartheid te ontwikkel en te gebruik om bewerings van apartheid in Israel te ondersoek en te beoordeel.

Daar vind wel politieke onderdrukking in die Wesoewer plaas, waar Palestyne van politieke regte ontneem word wat aan Joodse setlaars daar toegestaan word. ’n Stelsel van kontrolepunte in die Wesoewer is verder ’n vorm van ekonomiese onderdrukking wat ernstige beperkings op Palestyne se vryheid van beweging plaas. Daar bestaan verder voorregte, soos die Wet van Terugkeer, waardeur Israel Jode bo ander groepe in die samelewing bevoorreg. Israel is skuldig aan menseregteskendings deur die onderdrukking van die Palestyne en bevoordeling van Jode wat aansienlike ooreenkomste met die misdaad van apartheid toon. Bewerings van apartheid is nie sonder begronding nie, maar daar is ook verskille en die situasie in Israel is ’n unieke verskynsel, wat steeds ongeregtig is en internasionale aandag verg.

Trefwoorde: apartheid; groepsidentiteit; onderdrukking; ongelykheid; oorheersing; ras; strukturele geweld

 

Abstract

Israel and the Palestinians: Is there a regime of systemic oppression that constitutes a new apartheid?

The political and social system of apartheid that once existed in South Africa was universally condemned. Apartheid was a system of institutionalised inequality based on race. The injustice of a system where race was the defining characteristic that determined the opportunities and rights available to citizens is clear. The end of apartheid in South Africa did not bring with it the end of the use of this term. Today apartheid is recognized as a crime against humanity by the International Criminal Court (ICC), and it is defined in the Rome Statute without reference to South Africa. The definition of apartheid contained in the Rome Statute has never been interpreted by a court of law, and there is, therefore, some uncertainty regarding the full meaning and parameters of the term. Israel has often been accused, in the international media as well as by human rights groups, of practising apartheid. This allegation concerns the treatment of the Palestinian people by the Israeli state.

The first goal of this article is to develop a substantive political-philosophical definition of apartheid by expanding the ICC definition. This definition is then used to examine three examples of Israeli policy that are commonly associated with allegations of apartheid. The issues examined through the lens of apartheid include: the political oppression of Palestinians in the West Bank, restrictions on freedom of movement in the West Bank, and special privileges extended only to Jewish persons by Israel.

The ICC definition of apartheid has three core components. Firstly, discrimination must be based on race. In this article this component is expanded to include discrimination based on group identity rather than just skin colour. In apartheid it is the oppression of certain groups that is key. The basis of group membership can be religion, ethnicity or culture, as long as it is a fundamental part of a person’s identity.

The second component is that discrimination must be institutionalised. Apartheid is a system of structural violence. The very structure of society, including government, bureaucracy and the law, is set up to oppress certain groups.

The third component of apartheid is that discrimination and oppression must be aimed at the continued domination of one group over others. This means that the motivation behind laws and policies is key. Policies that have legitimate justification should not be considered evidence of apartheid.

This article has included the West Bank as a part of Israel where unequal treatment takes place. This is because Israel, through its military occupation, effectively controls the majority of the West Bank and exerts considerable influence even in the small area where it does not have formal jurisdiction. The political oppression of the Palestinians in the West Bank is evident. Palestinians in the West Bank are not granted Israeli citizenship and cannot take part in Israeli elections. The Palestinians thus have no say in the formation of the government that exerts authority over them, while Jewish settlers living in the West Bank are granted full political rights. The closest Palestinians in the West Bank get to participating in democracy is the Palestinian Authority elections. These elections take place very irregularly and in practice amount to little more than local government elections.

The system of checkpoints in the West Bank manned by the Israeli military severely restricts freedom of movement of Palestinians. This is a form of economic oppression that limits the ability of Palestinians to better their own position in life through working or seeking healthcare and education in Israel. Palestinians require permits to move through checkpoints, and the system in place to get permits is not transparent. The denial of permits is often regarded as unfair and arbitrary by Palestinians. Israel initially instituted the system of checkpoints after a series of terrorist attacks during the second intifada. It is, however, debatable whether the primary motivation for the continued use of checkpoints is still security.

Israel also extends certain privileges to Jewish people. The most famous example of this is the Law of Return. This law grants any Jewish person anywhere in the world the right to move to Israel and become a citizen. The Knesset has also passed legislation proclaiming Israel as the nation-state of the Jewish people, rather than a nation of all its citizens, with Hebrew enjoying a special status as the official language of Israel. It is much harder for Palestinians in the West Bank to move to Israel or become Israeli citizens.

This article finds that although there are certainly strong similarities between the situation in Israel and the West Bank and apartheid according to the developed definition, there are also some key differences. The political and economic oppression in the West Bank is definitely based on group identity, but it is not the case that Israel is oppressing all Palestinians. In official Israel, Jewish and Palestinian citizens have the same rights and protections under the law. In a system of apartheid, oppression would be targeted at an entire group or groups, regardless of their citizenship or where they live.

Furthermore, the discrimination and inequality are certainly institutionalised and there is a whole system of civil and military law in place that makes the oppression of the Palestinians possible while giving some advantages to Jewish people. It is also evident that the continued Jewish domination of government, and as such other groups in society, is a primary motivation behind the denial of political rights in the West Bank. The restrictions on freedom of movement for Palestinians in the West Bank certainly have an effect of domination, although it is plausible that the primary motivation for this is security.

Allegations of apartheid in Israel are not without merit. Israel is clearly guilty of discrimination against Palestinians and the granting of special privileges to Jewish people. The term apartheid is used in connection with Israel to draw international attention to the plight of the of the Palestinian people. It is useful to bear in mind that before its origin in South Africa there was no such word as apartheid. It might be tempting to place a ready-made label on what is happening in Israel, but the truth is that it is a unique situation. Whether it is apartheid, or something that we do not yet have a convenient name for, it is clear that the Palestinians are being oppressed by Israel and that the world should take notice and take action.

Keywords: apartheid; domination; group identity; inequality; oppression; race; structural violence

 

1. Inleiding

Apartheid is ’n term wat ’n onmiddellike en kragtige reaksie ontlok. Daar behoort geen dubbelsinnigheid te wees rondom die ongeregtigheid van hierdie politieke bestel wat eens in Suid-Afrika bestaan het nie. Die einde van apartheid in Suid-Afrika het egter nie daarmee saam die einde van die term se toepaslikheid gebring nie. Vandag word apartheid deur die Internasionale Strafhof as ’n misdaad teen die mensdom erken. Dit beteken dat die term apartheid mettertyd geskei geword het van die spesifieke geskiedenis van Suid-Afrika en nou meer algemeen op enige staat van toepassing kan wees.

Israel se behandeling van die Palestyne is dan die geval wat vandag gereeld deur plaaslike en internasionale menseregtegroepe en kommentators as apartheid gebrandmerk word. Gegewe die hoogs negatiewe konnotasies van apartheid is dit beslis nie iets waarvan enige staat beskuldig wil word nie, ook omdat dit na groot internasionale druk en gevolge soos sanksies kan lei. Israel se komplekse geskiedenis en plek in die internasionale stelsel as VSA-bondgenoot in die Midde-Ooste beteken egter dat uitsprake aangaande apartheid in Israel dikwels met partydigheid deurtrek is.

In hierdie artikel word daar ’n wesenlike definisie van apartheid ontwikkel. Hierdie definisie dien dan as die raamwerk om spesifieke politieke en ekonomiese beleide van die Israelse regering wat as bewyse van ’n stelsel van apartheid voorgehou word te evalueer en te bepaal of die gebruik van die term apartheid geregverdig is. Daar word gefokus op die tydperk sedert 2009, die aanvang van voormalige eerste minister Benjamin Netanyahu se tweede termyn, omdat die bestaan van beleid wat ooreenstem met apartheid in die verlede nie noodwendig beteken dat Israel vandag ’n apartheidstaat is nie. Drie kwessies wat voorgehou word as bewyse van apartheid word ondersoek en beoordeel: die ontneming van politieke regte in die Wesoewer, beperkings op vryheid van beweging in die Wesoewer, en spesiale voorregte wat Israel net aan Jode toestaan.

 

2. Agtergrond

Baie van die literatuur rakende apartheid in Israel volg ’n metode van vergelyking tussen apartheid-Suid-Afrika en hedendaagse Israel. Die werk van Peteet (2016:249) val in hierdie kategorie deur die onderskeie politieke stelsels te vergelyk en ooreenkomste in veral die stelsel van ongelyke regte vir Palestyne in Gaza en die Wesoewer en swart mense in apartheid-Suid-Afrika uit te lig. Van die spesifieke beleide wat gereeld in hierdie vergelykings uitgelig word, is die stelsel van klassifikasie van inwoners, kontrolepunte en aparte paaie vir verskillende groepe in die Wesoewer. Die feit dat die hele gebied onder Israel se beheer nie onder dieselfde regstelsel is nie, lê sentraal in bewerings van apartheid, met sommige Palestyne in die Wesoewer wat onder Israelse militêre reg leef terwyl Joodse setlaars daar onder Israelse burgerlike reg leef.

Dieselfde tipe vergelyking met Suid-Afrika word egter ook gebruik om te wys op die groot verskille tussen apartheid in Suid-Afrika en die situasie in Israel. Hier maak Goldstone (2011) ’n bekende argument dat die vergelyking oordrewe is en in kwade trou gemaak word. Hoewel daar ’n aantal oppervlakkige ooreenkomste bestaan, is dit volgens hom nie regverdig om dit aan ’n bewind van totale apartheid gelyk te stel nie. Hy wys hoofsaaklik op die feit dat Israelse burgers, beide Jode en Palestyne, dieselfde regte en toegang tot dienste het. Daar word erken dat die situasie in die Wesoewer meer kompleks is, maar steeds nie naby kom aan apartheid-Suid-Afrika nie. Goodman (2021) sluit aan by hierdie kritiek van die vergelyking en wys op die vrye bestaan van menseregtegroepe in Israel wat nooit so sou kon gefunksioneer het in apartheid-Suid-Afrika nie. Die feit dat die Wesoewer nie amptelik deel van Israel is nie, maar eerder onder militêre besetting is, word dikwels as ’n verweer vir die gebruik van verskillende regstelsels gebruik.

Apartheid word deur die VN as ’n misdaad erken, en word sonder verwysing na Suid-Afrika in die Statuut van Rome van 1998 gedefinieer. ’n Alternatiewe benadering tot die vraag wat die onderwerp van hierdie artikel vorm, is dus om nie ’n direkte vergelyking met apartheid-Suid-Afrika te tref nie, maar om eerder te bepaal of die misdaad van apartheid wel in Israel gepleeg word. Lingaas (2015:90) volg hierdie benadering deur die wetlike definisie van apartheid onder internasionale reg te ondersoek en te verduidelik. Hierdie benadering verg meer as om bloot ooreenkomste tussen spesifieke gevalle in Suid-Afrika en Israel aan te dui en behels interpretasie van wat die wese van apartheid onder internasionale reg is.

Die verslag van Human Rights Watch (2021) is ’n onlangse voorbeeld van waar die internasionale definisie van apartheid gebruik word om ’n oordeel oor Israel uit te spreek. Hierdie verslag bevind dat daar geïnstitusionaliseerde diskriminasie teen die Palestyne plaasvind, en hoofsaaklik in die besette Wesoewer. Die Palestyne het ’n mate van selfbeskikking in die besette gebied, maar Israel behou volle beheer oor grense, beweging van mense en goedere, asook die registrasie van die hele bevolking, wat beheer oor regstatus en goedkeuring vir permitte en identiteitsdokumente insluit. Human Rights Watch se verslag bevind in geen onsekere terme nie die bestaan van die misdaad van apartheid in Israel.

Daar is egter kritiek op hierdie verslag van Human Rights Watch wat neerkom op die kern van die definisiebenadering tot die vraagstuk. Cook (2021) wys daarop dat daar nog nooit ’n saak voor die Internasionale Strafhof oor die misdaad van apartheid voorgekom het nie. Dit beteken dat die definisie van apartheid in die Statuut van Rome nog nooit amptelik deur ’n hof geïnterpreteer is nie, wat toepassing daarvan uit ’n regsoogpunt ietwat onseker maak. Verder word die sekuriteitsoorwegings van Israel geminimeer. Sommige maatreëls, soos die stelsel van kontrolepunte in die Wesoewer, word afgemaak as apartheid, terwyl daar moontlik regmatige sekuriteitsregverdigings daarvoor bestaan.

Die bogenoemde werke is slegs enkele voorbeelde van die twee breë benaderings wat gebruik word in die oorgrote meerderheid van die literatuur aangaande beweerde apartheid in Israel. Die benaderings van vergelyking met Suid-Afrika enersyds en van ’n fokus op die definisie van apartheid andersyds word in verskillende werke ingespan om beide vir en teen die bestaan van apartheid in Israel te argumenteer. Daar is egter aanhoudend nuwe verwikkelinge in die konflik tussen Israel en die Palestyne. Dit sluit in nuwe wetgewende verwikkelinge soos die Joodse Nasiestaat-wetsontwerp van 2018 waardeur die Knesset Israel as die nasiestaat van die Jode eerder as ’n staat van al sy mense verklaar het (Berger 2018). Sulke verwikkelinge, asook die sporadiese geweld wat plaasvind tussen magte van die Israelse regering en die Palestyne, na bewering in reaksie op die Palestyne se behandeling deur die staat, beteken dat hierdie vraagstuk ’n dinamiese vraagstuk is.

 

3. Die definisie van apartheid

Apartheid is in die eenvoudigste sin ’n politieke stelsel wat gebaseer is op diskriminasie teen sommige groepe tot die voordeel van ander. Die Internasionale Strafhof het ’n bepaalde definisie van hierdie misdaad en is in die geval van misdade teen die mensdom in staat om aanklagte teen enige individue te bring wat hulle hieraan skuldig maak, selfs al is hulle burgers van ’n staat wat nie die Statuut van Rome onderteken het nie (Human Rights Watch 2020). Volgens Lingaas (2015:94) word apartheid sonder verwysing na Suid-Afrika in die Statuut van Rome van die Internasionale Strafhof gedefinieer as dade wat gepleeg word as deel van “a widespread or systematic attack directed against any civilian population” wat “inhumane acts […] committed in the context of an institutionalised regime of systematic oppression and domination by one racial group over any other racial group or groups and committed with the intention of maintaining that regime” behels.

Die belangrikste elemente wat uit hierdie definisie spruit, is dat die onderdrukking op grond van ras moet plaasvind, dat dit geïnstitusionaliseerd moet wees, en dat dit oorheersing as doelwit moet hê. Die kwessie van ras onderskei apartheid van ander vorme van outoritêre onderdrukking waar regte aan burgers ontken word. Dit is egter ’n baie breë definisie wat op vele maniere interpreteer kan word. Vir die doeleindes van hierdie artikel is dit dan nodig om die wese van apartheid verder uiteen te sit om ’n aanvaarbare maatstaf te skep waarteen die optrede van die Israelse regering gemeet kan word.

3.1 Diskriminasie en onderdrukking op die basis van groepsidentiteit

Geen bewind van apartheid sou kon bestaan sonder diskriminasie op grond van ras of groepsidentiteit nie. Diskriminasie deur die staat en onderdrukking loop hand aan hand en kan op eenvoudige wyse verstaan word as die bestaan van ’n bewind waardeur lede van ’n bepaalde groep of groepe ontneem word van geleenthede en regte wat aan ander beskikbaar is. Hierdie diskriminasie kan in sowel die politieke as die burgerlike of ekonomiese sfeer plaasvind, met ongelyke behandeling van verskillende groepe deur die staat wat as die basis van onderdrukking dien. Gelykheid word in hierdie artikel verstaan as gelykheid van geleenthede, waar elke persoon in die samelewing toegang het tot dieselfde geleenthede en regte, eerder as streng gelykheid van materiële uitkomste.

Vir die doeleindes van hierdie artikel sal ras verstaan word as meer as net ’n klassifikasie volgens velkleur, soos dit in Suid-Afrika plaasgevind het. Die kern van apartheid lê in diskriminasie teen bepaalde groepe, en dit maak nie ’n wesenlike verskil wat die basis van hierdie groepe vorm nie, solank dit iets is wat ’n fundamentele deel van ’n persoon se identiteit is. Ras word in verskeie internasionale konvensies breed gedefinieer, maar groeplidmaatskap wat by geboorte reeds bepaal word, is dikwels ’n kernelement daarvan (Dugard en Reynolds 2013:889). Ras sal dus hier eerder verstaan word as groeplidmaatskap in verband met kulturele herkoms, etnisiteit, geloofsoortuigings of enige ander eienskap wat identiteit bepaal. In die geval van Israel loop hierdie groeplidmaatskap dan hoofsaaklik saam met kultuur, etnisiteit en geloofsoortuigings, met die Jode en die Palestyne wat die hoofgroepe in die samelewing uitmaak, alhoewel daar in hierdie breë groepe ook ’n aansienlike mate van diversiteit ter sprake is.

3.2 Geïnstitusionaliseerde diskriminasie en onderdrukking

Vir onderdrukking om geïnstitusionaliseerd te wees moet dit vervat word in amptelike wetgewing en beleid wat deur die staat goedgekeur en geïmplementeer word. Blote burgerlike diskriminasie of rassisme onder die burgerlike bevolking sou nie voldoen aan die vereistes van ’n definisie van apartheid nie. Die diskriminasie en onderdrukking moet eerder verweef wees in die politieke stelsel en in wetgewing verskyn. Hier kan die begrip strukturele geweld nuttig wees om te verstaan hoe ’n stelsel van werklike apartheid funksioneer. Strukturele geweld kan beskryf word as ekonomiese en politieke onderdrukking wat inherent is in ’n stelsel van regering (Hague, Harrop en McCormick 2019:77). Die verband met apartheid is hier duidelik, omdat die onderdrukking deur die staat teen die mense gepleeg moet word.

Strukturele geweld word dikwels deur die slagoffers daarvan ervaar as iets onvermydelik (Lee 2019:124). Die ontneming van basiese regte kan in gevalle van strukturele geweld nie aan een spesifieke aksie of optrede deur ’n akteur toegeskryf word nie, maar is eerder deel van die struktuur van die samelewing as sulks. ’n Persoon wat onderdruk word, nie net deur die regering nie maar ook deur die regstelsel, kan nie die skuld daarvoor aan enige enkele persoon toewys nie – hulle fisieke en emosionele lyding is afkomstig van ’n veelheid individue wat optree volgens die verwagtinge wat geskep word deur die struktuur van die samelewing. Die aantal akteurs wat ’n rol speel in die instandhouding van hierdie struktuur beteken ook dat daar ’n groot mate van bestendigheid aan strukturele geweld is. Die stelsels en verhoudinge in ’n samelewing wat lei na strukturele geweld, beide fisies en sielkundig, word saamgestel uit ’n veelheid interaksies en kan nie oornag verander nie.

Enige lyding wat vermy kan word, maar steeds plaasvind as gevolg van die struktuur van ’n samelewing, soos die onderskeid tussen die omstandighede tussen ryk en arm of magtig en gemarginaliseerd, is ’n voorbeeld van die gevolg van strukturele geweld. Hulpbronne wat ongelyk verdeel word, is sentraal tot strukturele geweld. Die mag om besluite te neem oor hoe hulpbronne in die samelewing verdeel word, lei daartoe dat die verdeling van inkomste, opvoeding en toegang tot gesondheidsorg onder verskillende dele van die samelewing oneweredig verdeel word (Galtung 1969:171). Hierdie mag word gevind by diegene wat in beheer is van die skep van die struktuur waardeur die samelewing funksioneer – die regering, wetgewers, en howe.

3.3 Oorheersing as doel

Volgens die VN-definisie moet onderdrukking ook plaasvind met die doel om ’n bewind van oorheersing te onderhou. Dit is ’n kerndeel van apartheid dat beleid nie op tydelike oorwegings en omstandighede gebaseer is nie maar eerder gemik is op die instandhouding van ’n volhoubare en voortdurende stelsel waar een groep se oorheersing onbepaald onderhou word. Dit beteken dat aksies wat uitgevoer word om ’n bepaalde en geldige korttermyndoelwit te bereik wat nie verband hou met die onderhoud van oorheersing nie, nie as bewyse van apartheid voorgehou moet word nie.

Oorheersing deur een groep kom neer op ’n situasie waar die reëls nie vir almal in die samelewing dieselfde is nie. Wanneer daar sistematiese bevoordeling van sommige groepe tot die nadeel van ander plaasvind, met die doel om mag in die hande van ’n bepaalde groep te hou, vind daar oorheersing plaas. Formele gelykheid voor die reg beteken nie veel as daar vir verskillende groepe verskillende regstelsels geld nie, en is afwesig as bevoorregting en onderdrukking in die reg vervat word. Erge ekonomiese ongelykheid wat ’n ernstige probleem en beperking op vryheid kan wees, sou, daarenteen, nie kon dien as bewyse van apartheid indien daar nie spesifieke beleid en wetgewing is wat een groep ten koste van ander bevoordeel nie.

Die gebruik van die term apartheid is dus korrek en geregverdig net indien daar aan al die bogenoemde vereistes voldoen word. Beleid en wetgewing wat oppervlakkige ooreenkomste met slegs sekere vereistes toon, en moontlik ander regmatige motiverings het, kan nie as apartheid geëtiketteer word nie. Die een motivering wat egter altyd deur ’n lens van gesonde agterdog beskou moet word, is “sekuriteit”. Dit is ’n gunstelingregverdiging vir allerlei skendings van regte, en enige ware sekuriteitsoorwegings moet altyd gebalanseer word met respek vir regte om as ’n regmatige motivering vir beleid te dien.

 

4. Die status van die Wesoewer en Gaza

Image may be NSFW.
Clik here to view.

Daar word dikwels saam na die Wesoewer en Gaza as die Besette Palestynse Gebiede verwys. Daar is egter aansienlike verskille in die omstandighede in hierdie twee gebiede. Vir die doeleindes van hierdie artikel sal die Wesoewer as deel van Israel beskou word. Volgens die VN is hierdie gebied amptelik onder Israelse militêre besetting. Hierdie spesiale status van besetting kan gebruik word om die skending van politieke regte te regverdig wat onaanvaarbaar in ’n liberale demokrasie sou wees. Dit skep dan natuurlik ook die ietwat omstrede geleentheid vir ander ongelyke behandeling. ’n Gebied onder besetting is uit die aard van die saak onder die gesag van ’n besettende mag, wat ware demokratiese selfregering uitsluit.

Die Wesoewer is verdeel in drie gebiede, soos uiteengesit in Figuur 1, waar verskillende liggame in beheer van regering en sekuriteit is. In gebied A, die kleinste van die drie gebiede volgens grondgebied, word verantwoordelikheid vir beide regering en sekuriteit aan die Palestynse Owerheid (PO) oorgelaat. Dit is die naaste wat die Palestyne aan selfbeskikking in die Wesoewer kom, met verkiesings wat op ’n hoogs ongereelde basis plaasvind. Gebied A is egter verdeel in ’n aantal fragmente wat omring is deur die ander dele van die Wesoewer, gebiede B en C, wat uitbreiding van hierdie gemeenskappe moeilik maak (Al Jazeera 2019).

In gebied B is die Palestyne steeds vir regering verantwoordelik, maar sekuriteit val onder die gesag van die Israelse weermag. Gebied C is dan totaal onder Israel se beheer en is die gebied waar Joodse setlaars woon. Dit is ook die grootste deel van die Wesoewer met meer as 60% van die grondgebied. Dit behoort duidelik te wees dat enige mate van selfregering wat aan die Palestyne toegelaat word deur Israel, sterk getemper word deur die beheer wat Israel oor omliggende gebiede het.

Die sogenaamde besetting is boonop al sedert 1967 aan die gang sonder enige konkrete planne vir Israel om te onttrek. Daar is inteendeel ’n volgehoue, en omstrede, beweging na die Wesoewer deur Joodse Israeli’s wat permanente gemeenskappe oprig en uitbrei. ’n Regmatige militêre besetting is regverdigbaar onder internasionale reg net solank dit ’n militêre noodsaaklikheid is. Dit is veronderstel om plaas te vind met ’n begin en ’n einde gedurende ’n gewapende konflik, waarna soewereine beheer terug verplaas moet word na die oorspronklike gesag (Azarova 2017).

Verder is dit duidelik dat die PO, wat nie oor genoeg militêre hulpbronne beskik om Israel se gesag op enige noemenswaardige wyse teen te staan nie, se bestaan van Israel afhanklik is. Die PO word in effek deur Israel toegelaat om te bestaan, met hierdie vergunning wat verbind is aan verskeie vorme van afhanklikheid. Onder andere is die PO afhanklik van Israel vir die inwinning en oorbetaling van belastingfondse wat vir hulle daaglikse aktiwiteite nodig is, en hierdie fondse word soms weerhou indien daar geskille tussen die PO en Israel ontstaan (Reuters 2020). Daar kan dus vir alle praktiese doeleindes geargumenteer word dat die Wesoewer onder Israel se beheer is. Dit is waarom die hele gebied van die Wesoewer nie as ’n besetting met spesiale oorwegings behandel sal word nie, maar eerder as ’n deel van Israel waar ongelyke behandeling plaasvind.

Terwyl die Israelse regering direkte beheer in die Wesoewer uitoefen, heers daar ander omstandighede in Gaza. Sedert 2005 is daar geen Israelse magte binne Gaza nie en woon daar ook nie Joodse Israeli-setlaars nie. Israel hou egter streng beheer oor beweging van mense en goedere tussen Gaza en Israel. Israel oefen dus slegs van buite die grense van Gaza invloed uit eerder as dat hulle direkte gesag daar uitoefen, met Hamas wat in beheer is van dag-tot-dag administrasie, regering en sekuriteit in Gaza (Beauchamp 2014). Die afwesigheid van direkte beheer deur Israel is dan waarom Gaza nie as deel van Israel beskou word vir die doeleindes van hierdie artikel nie.

 

5. Politieke onderdrukking in die Wesoewer

Een van die sentrale twispunte in die vraagstuk van beweerde apartheid in Israel is die ongelyke politieke regte wat aan diegene onder Israel se gesag toegestaan word. “Politieke regte” verwys hier hoofsaaklik na die vermoë om te stem en te staan vir verkiesing in nasionale verkiesings, en die reg om politieke groepe te vorm en byeenkomste by te woon. Dit is in hierdie gebiede waar ’n baie skerp kontras bestaan tussen die omstandighede van die bevolking wat as burgers erken word deur die staat, van wie sommige in die Wesoewer woon, en die res van die mense onder Israel se gesag in die Wesoewer.

Israelse burgers het almal dieselfde politieke regte en vryhede. Die amptelike staat van Israel, wat apart van die Besette Palestynse Gebiede beoordeel word, presteer relatief goed in Freedom House (2021) se Freedom in the World-indeks wat mates van politieke en burgerlike vryheid meet. Dit is ’n staat waar alle burgers, ongeag geloof, etnisiteit, of enige ander identiteitsoorwegings, vry is om deel te neem aan die politieke proses. Arabiese burgers word nie verhoed om verteenwoordigers te wees in die Knesset nie en is vry om aan politieke partye te behoort, en die Ra’am Islamitiese party is trouens deel van die koalisieregering wat in 2021 gevorm is (Kershner 2021).

Waar daar egter veel meer omstredenheid bestaan, is in die erkenning van mense as burgers, al dan nie. Nie almal onder die gesag van die Israelse regering word as burgers erken nie, en hier word spesifiek verwys na die onderskeid wat getref word tussen Palestyne en Joodse setlaars in die Wesoewer. Palestyne in die Wesoewer word nie erken as burgers van Israel nie en kan nie in Israelse verkiesings stem nie, terwyl setlaars volle politieke regte en burgerskap van Israel toegestaan word (Omer-Man 2019). Die gevolg is dat daar ’n aansienlike tekort aan verteenwoordiging van Palestynse belange in die Israelse regering is.

Hoewel presiese en betroubare data oor die demografiese samestelling van die Wesoewer se bevolking nie maklik verkrygbaar is nie, word die aantal Palestyne in die Wesoewer deur die VN op meer as 2,9 miljoen geraam (United Nations 2021). Dit is dan 2,9 miljoen mense wat nie die reg het om deel te wees van die vorming van die regering wat oor hulle gesag uitoefen nie. Dit terwyl die meer as 475 000 Joodse setlaars wat in dieselfde gebied woon, burgers van Israel is met al die gepaardgaande politieke regte (Krauss 2021). Dit is beslis ’n vorm van politieke onderdrukking wat geregverdig word deur die kunsmatige aanwending van ’n militêre besetting.

Die vraag is nou of hierdie onderdrukking aan die vereistes van die definisie van apartheid voldoen.

Dit is duidelik dat groepsidentiteit die beslissende faktor is wanneer daar bepaal word aan wie burgerskap en politieke regte in die Wesoewer toegestaan word. Daar hoef bloot gekyk te word na die verskillende stelle regte wat aan die verskillende groepe in die Wesoewer, onderskeidelik die Palestyne en Jode, toegestaan word om dit te bevestig. Ongeag die moontlike regverdigings daarvoor is die empiriese werklikheid dat Palestyne in die Wesoewer eenvoudig nie oor dieselfde politieke regte as hulle Joodse bure beskik nie. Die Palestynse Owerheid-verkiesings – wat in effek nie veel meer as plaaslikeregeringverkiesings is nie – is die naaste wat Palestyne in die Wesoewer aan demokratiese selfbeskikking kom.

Hierdie weerhouding van politieke regte is verder beslis geïnstitusionaliseerd. Dit is nie onbepaalde faktore in die samelewing wat lei na die Palestyne in die Wesoewer se agtergesteldheid nie. Daar is ’n doelbewuste stelsel van reg en beleid wat deur die regering afgedwing word wat ongelyke behandeling onderhou. In die siening van Israel se regstelsel word daar geen misdaad of onwettige diskriminasie gepleeg deur die Palestyne van politieke deelname te weerhou nie. Die Palestyne kan nie hulle situasie verbeter deur ’n beroep op die reg nie, want dit is juis die reg wat hulle onderdruk.

Vir die onderdrukking om werklik te voldoen aan die betekenis van apartheid moet die motivering daaragter die oorheersing, en onderhoud van daardie oorheersing deur een groep oor ’n ander wees. Ten spyte van die feit dat daar vir die eerste keer ’n Arabiese party verteenwoordig word in Israel se regerende koalisie, wat slegs deur ’n uitsonderlike stel omstandighede moontlik gemaak is, word die Israelse regering sedert die ontstaan van die staat deur Joodse partye oorheers. Dit is relatief eenvoudig om te sien waarom. In ’n staat met ’n amptelike bevolking van ongeveer 9 miljoen is ’n driekwart van daardie bevolking van Joodse herkoms, soos geklassifiseer deur die Israelse Sentrale Buro van Statistieke (Times of Israel 2021). Die hele Joodse bevolking is uit die aard van die saak nie ’n georganiseerde en verenigde geheel nie, maar selfs waar politieke verskille tussen partye bestaan, is daar ’n gedeelde Joodse identiteit.

Die Joodse meerderheid en oorheersing van regering deur Joodse partye sou beslis geraak word indien die ongeveer 2,9 miljoen Palestyne in die Wesoewer die reg gehad het om in Israel se verkiesings te stem. Dit skep ’n aansporing vir enige Joodse party wat in die regering is om die status quo van hulle behandeling van die Palestyne te onderhou. Israel is nie bereid om aan die Wesoewer onafhanklikheid toe te staan nie, maar wil ook nie die Palestyne daar as deel van Israel se bevolking erken nie. Dit is waarom die aanwending van militêre besetting verdraai word om die beheer oor die grondgebied te behou sonder om verantwoordbaar aan die Palestyne te wees. Dit blyk dan dat die oorheersing van een groep, Israelse Jode, oor ’n ander, die Palestyne, en die onderhoud van daardie oorheersing die motivering vir die weerhouding van politieke regte is.

 

6. Ekonomiese onderdrukking in die Wesoewer: vryheid van beweging

Apartheid word nie beperk tot die formele politieke sfeer nie. Daar is verskeie ander beleide en aksies wat voorgehou word as bewyse van apartheid wat eerder te doen het met ekonomiese vryheid. Ongelyke behandeling in die ekonomiese sfeer van vrye keuse het ’n effek van onderdrukking wat soortgelyk is aan die ontneming van politieke regte. Dit sluit in beperkings op vrye beweging van mense en goedere, verontagsaming van eiendomsregte en ’n weiering om boupermitte aan Palestyne in die Wesoewer toe te staan (Human Rights Watch 2021). Hierdie afdeling fokus op ’n kwessie wat voorop in aantygings van apartheid staan: beperkings op die vrye beweging van Palestyne in die Wesoewer.

Vryheid van beweging is van kernbelang vir ekonomiese vryheid. Die vermoë om binnelands te verhuis of te pendel in die soeke na beter werksgeleenthede, opvoeding of mediese sorg behoort aan alle mense toegestaan te word. Net soos by die ontneming van politieke regte is die kwessie hier nie die behandeling van amptelike burgers van Israel nie.

Soos reeds genoem, word die verskillende dele van die Wesoewer deur verskillende liggame administreer. Israel behou egter volle beheer oor alle ingang- en uitgangspunte na Israel deur middel van weermagbemande kontrolepunte, terwyl daar ook ’n uitgebreide stelsel van kontrolepunte tussen die verskillende gebiede binne-in die Wesoewer is. In 2020 was daar byna 600 Israelse kontrolepunte en padblokkades, waarvan sommige slegs deeltyds beman word, in die Wesoewer (Amnesty International 2020). Die enigste manier vir Palestyne om deur hierdie kontrolepunte te beweeg, is om in besit van ’n permit te wees. Permitte word deur ’n ondeursigtige stelsel uitgereik wat deur baie Palestyne as arbitrêr en onregverdig gesien word (Laub en Daraghmeh 2018). Ongeag die rede vir die permitstelsel is die effek daarvan ’n streng beperking op die ekonomiese vryheid van die Palestyne in die Wesoewer, en so ’n mate van beheer deur Israel oor die inwoners van die Wesoewer moet as outokraties gesien word.

Die ekonomiese geleenthede in die Wesoewer is uit die aard van die saak veel meer beperk as in amptelike Israel. BBP per kapita in die Wesoewer en Gaza was in 2020 volgens die Wêreldbank se data $5 690,30, aangepas vir koopkragpariteit, teenoor ’n veel groter $41 854,90 vir Israel (The World Bank 2021). Hierdie gaping is ’n aanduiding dat daar veel meer ekonomiese aktiwiteit in Israel plaasvind as in die nabygeleë gebiede wat hoofsaaklik deur Palestyne bewoon word. Dit behoort dan duidelik te wees waarom mense in die Wesoewer sou verkies om te pendel na werksgeleenthede in Israel of selfs om na meer welaf gebiede te verhuis in die soeke na beter ekonomiese vooruitsigte.

Ekonomiese ongelykheid tussen verskillende groepe in ’n samelewing kan die gevolg van ’n wye verskeidenheid historiese, sosiale of ekonomiese faktore wees wat nie noodwendig op huidige onderdrukking en diskriminasie deur die staat dui nie. In Suid-Afrika is daar byvoorbeeld vandag steeds groot ekonomiese ongelykheid wat verband hou met die apartheidstelsel van die verlede, maar daar kan nie gesê word dat ongelykheid in Suid-Afrika doelbewus deur huidige diskriminerende beleid en wetgewing onderhou word nie. Tot die mate waarin diskriminerende wetgewing vandag in Suid-Afrika voorkom, soos regstellende aksie en Swart Ekonomiese Bemagtiging, is dit duidelik eerder met die doel om te vergoed vir ongeregtighede van die verlede.

In die geval van die Wesoewer kan die stelsel van kontrolepunte en permitte egter as ekonomiese onderdrukking gesien word. Die beperkings wat geplaas word op mense se vryheid van beweging, afgesien van die daaglikse ongerief, maak dit baie moeilik vir Palestyne in die Wesoewer om hulle eie posisie te verbeter. Dit is duidelik ook ’n geïnstitusionaliseerde vorm van onderdrukking wat deur die staat Israel afgedwing word. Daar bestaan ’n komplekse stelsel om te bepaal wie toegelaat word om deur kontrolepunte te beweeg en wie nie.

Die motivering agter hierdie beperkings, of ten minste die oorspronklike motivering, blyk egter regmatige sekuriteitsoorwegings te wees. Die stelsel is opgerig in reaksie op ’n aantal terreuraanvalle op Israelse burgers vanuit die Wesoewer in die vroeë 2000’s gedurende die Palestynse opstand wat bekend staan as die tweede intifada (Eglash 2019). Die kontrolepunte en permitstelsel is aanvanklik ingestel om te verhoed dat Islamitiese terroriste Israel binnekom om aanvalle op Israelse burgers uit te voer. Die vraag is dan of sekuriteitsoorwegings steeds vandag die hoofmotivering vir hierdie beperkings is.

Vir hierdie beperkings om deel van apartheid uit te maak, moet dit duidelik wees dat die oorheersing van Israelse Jode oor die Palestyne die doel daarvan is. Die effek van die beperkings is beslis onderdrukkend, en boonop word dit teen ’n hele bevolking ingestel in reaksie op terreuraanvalle van meer as ’n dekade gelede. As Palestyne deur kontrolepunte vol soldate moet beweeg, met die regte permitte vir toegang, terwyl Joodse setlaars vrylik tussen die Wesoewer en Israel kan beweeg, is dit duidelik watter groep oorheers en dat die stelsel help om hierdie oorheersing te onderhou, al is dit moontlik nie die primêre motivering nie.

 

7. Spesiale voorregte aan Jode

Tot dusver was die fokus van hierdie artikel op die ongelyke behandeling en onderdrukking van die Palestyne in die Wesoewer. Israel se regverdiging vir hierdie behandeling is dat die Palestyne in die Wesoewer nie Israelse burgers is nie en dus nie al die regte het wat daarmee gepaard gaan nie, en sekuriteitsoorwegings. ’n Kerndeel van apartheid is natuurlik dat sommige groepe voorregte moet hê wat nie aan ander toegestaan word nie. Selfs in amptelike Israel word daar dan sekere spesiale voorregte aan Jode toegestaan wat nie aan ander toegestaan word nie.

Die beroemdste voorbeeld van ’n spesiale voorreg wat die staat Israel aan Jode toestaan, is die Wet van Terugkeer. Volgens hierdie wet het enige Jood, van enige staat in die wêreld, die reg om na Israel te verhuis en volle burgerskap te verkry deur eenvoudig in Israel op te daag en te verklaar dat hulle burgers wil word (Feldman 2021). Hierdie wet is in 1950 ingestel met die doel om ’n tuiste vir Jode na die Tweede Wêreldoorlog te bied. Hierdie spesiale vergunning is veral opvallend wanneer dit vergelyk word met die lot van Palestyne in die Wesoewer. Terwyl hulle deur ’n komplekse proses van kontrolepunte en permitte moet gaan net om Israel te besoek, kan enige Jood in die wêreld sonder te veel moeite ’n Israelse burger word. Verder ontsê Israel ’n soortgelyke reg van terugkeer aan die meer as 700 000 Palestyne en hulle nageslagte wat verplaas is toe Israel in 1948 gevestig is (Amnesty International 2019).

Daar is veel strenger vereistes vir Palestyne wat burgerskap van Israel wil verkry. Palestyne wat burgers van Israel wil word, kan aanspraak maak op burgerskap deur te bewys dat hulle voor 1948 en gedurende die periode van 1948–1952 geregistreerde permanente inwoners van die grondgebied was waar Israel vandag is. Verder kan hulle op grond van naturalisering vir burgerskap kwalifiseer. Dit behels voldoening aan ’n reeks vereistes wat vervat word in die Burgerskapwet van 1952 wat net op nie-Jode van toepassing is. Hierdie vereistes sluit onder andere in ’n aantal jare se verblyf in Israel met die doel om daar te vestig, kennis van Hebreeus, en die aflê van ’n eed van getrouheid aan Israel (Human Rights Watch 2021).

Daar is ook bepalings in die Wet op Burgerskap en Binnekoms van 2003 wat op ongelyke behandeling dui. Hierdie wet is ook in reaksie op die tweede intifada ingestel en het verhoed dat Palestyne uit die Wesoewer wat met inwoners in Oos-Jerusalem of burgers van Israel trou, vanaf die Wesoewer na hulle eggenote verhuis (Dwoskin en Rubin 2021). Hoewel hierdie wet in 2021 vir die eerste keer sedert 2003 nie hernu is nie, is daar steeds ’n aansienlike burokratiese proses wat voltooi moet word om ’n spesiale permit te verkry vir verblyf saam met ’n eggenoot in Israel. Die kontras met die gemak waarmee Jode na Israel kan verhuis, stel die bevoorregting van Jode bo Palestyne, en enige ander groep in die samelewing, duidelik.

Die spesiale status wat deur die staat aan Jode verleen word, is gebaseer op ’n breë regsdefinisie van Joodse nasionaliteit. In ’n stelsel van apartheid is die ander kant van onderdrukking en diskriminasie die bevordering van oorheersing van ’n groep, in hierdie geval die Jode, deur aan hulle sekere voorregte toe te staan. Die kern van hierdie nasionalistiese beleid kan gesien word in die Basiese Wet van 2018: Israel as die nasiestaat van die Joodse Volk. Hierdie wet bevestig dat die reg op selfbeskikking in Israel alleenlik die Joodse volk toekom, dat Hebreeus die amptelike taal van Israel is, met Arabies wat ’n laer status behou, en dat die staat die projek van Israelse setlaars ondersteun (Berger 2018).

Dit mag moontlik voorkom asof die Israelse staat opgestel is om Joodse belange bo enige ander te bevorder. Die kwessie ter sprake hier is dan of die bevoordeling van Jode enigsins anders is as die veelheid wette en beleide wat regoor die wêreld bestaan om sekere groepe se belange te bevorder. Beleide van regstellende aksie in state waar daar voorheen teen swart mense diskrimineer is, is deesdae ’n alledaagse verskynsel. Hoewel die geldigheid en geregtigheid van sulke beleid dikwels hewige debatte afgee, word dit beslis nie in byvoorbeeld die VSA as apartheid bestempel nie.

Regstellende aksie is gewoonlik daarop gemik om te vergoed vir ongeregtigheid van die verlede, om aan diegene wat deur die geskiedenis onderdruk en benadeel is, ’n geleentheid te gee wat hulle voorheen nie sou gehad het nie. Israel is oorspronklik as ’n staat vir Jode gevestig na afloop van die gruwels wat hulle in die Tweede Wêreldoorlog moes deurmaak. Die geografiese ligging van Israel hou groot historiese waarde vir Jode in en dit is duidelik in die optrede van die Israelse regering sedert die ontstaan van die staat dat hulle ten alle koste Joodse beheer van Israel wil behou.

Dit is dan die instandhouding van die oorheersing van Jode oor ander groepe in die samelewing wat ten diepste die motivering vir hulle bevoorregting is. Joodse oorheersing van die staat vind wel deur ’n demokratiese proses plaas, in soverre die amptelike burgery deelneem aan verkiesings om die verteenwoordigers in die Knesset te kies. Dit skep egter ’n probleem vir demokratiese legitimiteit wanneer die Joods-oorheerste Israelse regering, wat deur ’n meerderheid Joodse amptelike bevolking ingestem is, gesag en beheer uitoefen oor Palestyne in die Wesoewer wat nie aan die politieke proses mag deelneem nie.

 

8. Is dit apartheid?

Die voorbeelde wat in hierdie artikel ondersoek word, is geensins die volle verhaal van bewerings van apartheid nie. Dit is egter van die beleid waarna daar die gereeldste verwys word wanneer Israel van apartheid beskuldig word. Dit behoort duidelik te wees uit die voorgaande bespreking dat nie almal onder Israel se politieke beheer gelyke behandeling vanaf die staat ontvang nie. Die vraag is nou of hierdie ongelyke behandeling, diskriminasie en onderdrukking werklik ’n stelsel van apartheid in Israel uitmaak.

Die gebrek aan politieke regte van die Palestyne in die Wesoewer en beperkings op hulle beweging is ongetwyfeld onderdrukking. Hierdie onderdrukking vind op die basis van groepsidentiteit plaas – Joodse setlaars in die Wesoewer leef nie onder dieselfde beperkings nie. Die kwessie van diskriminasie op grond van groepsidentiteit is egter meer kompleks as om te sê dat Israel die Palestyne onderdruk. Die onderdrukking in die Wesoewer is wel op die Palestyne daar gefokus, maar daar moet in ag geneem word dat die Palestyne wat burgers is van Israel, dieselfde politieke regte as Joodse burgers het. In ’n werklike stelsel van apartheid sou diskriminasie deur die staat op ’n hele rasse-, etniese of ander groep gemik word. In die geval van Israel wil dit voorkom of diskriminasie teen Palestyne gemik is slegs waar dit geregverdig kan word deur die tegniese aanwending van militêre besetting, eerder as die hele Palestynse bevolking onder Israel se gesag. Diskriminasie onder ’n militêre besetting bly egter steeds diskriminasie, en moet as onaanvaarbaar beskou word.

Hierdie onderdrukking is verder beslis geïnstitusionaliseerd, met die staat van Israel wat in beheer van die goedkeuring en implementering van beleid is wat die Palestyne in die Wesoewer benadeel. Die onderdrukkende beleid wat in die Wesoewer toegepas word, is in Israel se burgerlike en militêre reg vervat, wat beteken dat die Palestyne nie deur ’n beroep op die reg hulle onderdrukking kan beveg nie. Die aanwending van militêre besetting maak dit moontlik vir Israel om aksies in die Wesoewer uit te voer wat nooit in amptelike Israel aanvaarbaar sou wees nie.

Die laaste vereiste vir apartheid is dan oorheersing as doelwit. Die Joodse meerderheid van Israel oorheers die staat al sedert die ontstaan daarvan. Palestyne in die Wesoewer word politieke regte ontneem wat hierdie oorheersing sou affekteer. Die beperkings op vryheid van beweging het beslis ’n effek van oorheersing, al is die hoofmotivering daarvoor sekuriteitsoorwegings. Jode het verder sekere spesiale voorregte wat ander ontsê word, en die Joodse Nasiestaat-wet bevestig dat die reg op selfbeskikking in Israel alleenlik die Joodse volk toekom. Wanneer daar na die optrede van die Israelse staat gekyk word, is dit moeilik om te ontken dat die behoud van Joodse beheer oor die staat ’n kernwaarde is wat optrede en beleid beïnvloed.

Dit is tot ’n mate verstaanbaar gegewe die omstandighede rondom die ontstaan van Israel as ’n tuiste vir Jode na die verskriklike gruwels wat hulle moes deurmaak in die Tweede Wêreldoorlog. Die geïnstitusionaliseerde bevoordeling van een etniese groep met die doel om beheer oor die staat te behou, moet egter as onaanvaarbaar gesien word. Daar is nie toewyding aan gelykheid van geleenthede in Israel nie en die reg benadeel sommige groepe en bevoordeel ander. Die spesiale status wat Jode voor die reg in Israel geniet, is ’n probleem vir enige opvatting van gelykheid.

Israel is skuldig aan die geïnstitusionaliseerde onderdrukking van die Palestyne in die Wesoewer en die bevoordeling van Jode bo enige ander groep in die samelewing. Die gevalle wat in hierdie artikel uiteengesit is, voldoen grootliks aan die definisie van apartheid wat voorgehou is. Daar is egter afwykings in die mate waartoe die ontneming van politieke regte op groepsidentiteit gebaseer is, en oor die doel van beperkings op vryheid van beweging as oorheersing. Tog is die ooreenkomste met die definisie van apartheid aansienlik, en bewerings van apartheid in Israel is nie sonder basis nie.

’n Laaste punt is egter dat daar nie ’n misdaad “apartheid” bestaan het voordat apartheid in Suid-Afrika ontwikkel en toegepas is nie. Daar is beslis sterk ooreenkomste met apartheid in Israel se behandeling van die Palestyne, maar dit is ’n unieke situasie met ’n eie mengsel van historiese, sosiale en godsdienstige faktore wat tot die huidige onderdrukking bydra. Ons is geneig om ’n etiket daarop te wil plaas, maar daar is nie ’n klaargemaakte begrip wat presies ooreenstem met wat in Israel plaasvind nie. Dit is egter duidelik dat die ongelyke behandeling wat daar plaasvind, kommerwekkend en ongeregtig is en aandag en hulp van die internasionale gemeenskap verdien.

 

9. Gevolgtrekking

Hoekom maak dit juis saak of die onderdrukking apartheid uitmaak? Die antwoord hierop is dat die term apartheid historiese gewig dra, en dat apartheid boonop as ’n misdaad teen die mensdom geklassifiseer word. Apartheid soos dit in Suid-Afrika plaasgevind het, die enigste werklike bevestigde implementering daarvan, het ’n impak op miljoene mense se lewens gehad, en die uitwerking daarvan kan steeds vandag in die samelewing gesien word. Dit is daarom belangrik dat die ervaring van mense wat onder apartheid onderdruk is, nie goedkoop gemaak word deur die term sonder regverdiging te gebruik nie.

Die ander rede waarom die apartheid-etiket saak maak, is dat die internasionale gemeenskap ’n verantwoordelikheid het om op te tree indien enige staat hulle daaraan skuldig maak. Deur apartheid in die Statuut van Rome in te sluit as ’n misdaad teen die mensdom word daar bevestig dat dit gesien word as een van die ergste oortredings wat ’n staat kan pleeg. Dit volg dan dat die VN en die Internasionale Strafhof een of ander stap moet doen indien ’n staat hom daaraan skuldig maak. In die geval van Suid-Afrika is daar van internasionale sanksies gebruik gemaak om die staat te isoleer en te dwing om van apartheid af te sien. Dit was beslis een van die faktore wat tot die einde van apartheid in Suid-Afrika bygedra het.

Die internasionale reaksie en aandag wat daar aan apartheid in Suid-Afrika geskenk is, dien verder as ’n aansporing om die term apartheid te gebruik om aandag op die situasie van die Palestyne te vestig. Die kombinasie van geskiedenis en huidige internasionale reg beteken dat daar kennis geneem word wanneer ’n staat van apartheid beskuldig word, en of dit nou tegnies ’n geldige aantyging is of nie, het dit beslis groter aandag op die Palestyne se onderdrukking deur Israel gefokus.

Hierdie artikel het die behandeling van die Palestyne deur Israel deur die lens van apartheid ondersoek. Daar is genoeg ooreenkomste met apartheid dat ’n volledige ondersoek deur die VN en moontlike optrede deur die internasionale gemeenskap geregverdig is. Ongeag die tegniese definisie vir wat besig is om in Israel te gebeur, of dit apartheid is of iets anders wat nog nie gedefinieer is nie, is dit duidelik dat die Palestyne in die Wesoewer onderdruk word. Uit ’n morele oogpunt behoort die wêreld iets daaromtrent te doen, maar ongelukkig word die wêreld van internasionale verhoudinge veel meer deur verskeie magtige partye se belange as deur morele oorwegings beïnvloed.

Die binnelandse magsverhoudinge tussen die Palestyne en Israel is verder van so ’n asimmetriese aard dat enige verbetering in omstandighede van Israel se kant af sal moet kom. In onderhandelinge oor beperkinge, of selfs die skep van ’n soewereine Palestynse staat, het die Palestyne nie veel mag om toegewings van Israel af te dwing nie. Sowel die internasionale as plaaslike politieke klimaat laat die Palestyne met min opsies om hulle lot te verbeter.

 

Bibliografie

Al Jazeera. 2019. What are areas A, B, and C of the occupied West Bank? https://www.aljazeera.com/news/2019/9/11/what-are-areas-a-b-and-c-of-the-occupied-west-bank (10 Augustus 2021 geraadpleeg).

Amnesty International. 2019. Israel’s refusal to grant Palestinian refugees right to return has fuelled seven decades of suffering. https://www.amnesty.org/en/latest/news/2019/05/israels-refusal-to-grant-palestinian-refugees-right-to-return-has-fuelled-seven-decades-of-suffering (18 Maart 2022 geraadpleeg).

—. 2020. Israel and Occupied Palestinian Territories 2020. https://www.amnesty.org/en/location/middle-east-and-north-africa/israel-and-occupied-palestinian-territories/report-israel-and-occupied-palestinian-territories (15 Oktober 2021 geraadpleeg).

Anera. s.j. What are area A, area B, and area C in the West Bank? Anera. https://www.anera.org/what-are-area-a-area-b-and-area-c-in-the-west-bank (4 Oktober 2021 geraadpleeg).

Azarova, V. 2017. Israel’s unlawfully prolonged occupation: Consequences under an integrated legal framework. https://ecfr.eu/publication/israels_unlawfully_prolonged_occupation_7294 (18 Augustus 2021 geraadpleeg).

Beauchamp, Z. 2014. 11 crucial facts to understand the Israel-Gaza crisis. Vox. https://www.vox.com/2014/7/16/5904691/hamas-israel-gaza-11-things (25 Augustus 2021 geraadpleeg).

Berger, M. 2018. Israel’s hugely controversial “nation-state” law, explained. Vox. https://www.vox.com/world/2018/7/31/17623978/israel-jewish-nation-state-law-bill-explained-apartheid-netanyahu-democracy (2 Junie 2021 geraadpleeg).

Cook, S. 2021. Israel’s apartheid doesn’t make a difference. https://foreignpolicy.com/2021/05/06/israels-apartheid-doesnt-make-a-difference/ (1 Junie 2021 geraadpleeg).

Dugard, J. en J. Reynolds. 2013. Apartheid, international law, and the Occupied Palestinian Territory. The European Journal of International Law, 24(3):867–913.

Dwoskin, E. en S. Rubin. 2021. Israel has denied certain married couples the right to live together. Some hide. Others break up. Washington Post. https://www.washingtonpost.com/world/middle_east/israel-palestinians-family-reunification/2021/07/15/fa4e30c6-e303-11eb-88c5-4fd6382c47cb_story.html (22 September 2021 geraadpleeg).

Eglash, R. 2019. A high-tech facelift takes the sting out of an Israeli checkpoint – but not out of the occupation. Washington Post. https://www.washingtonpost.com/world/israels-high-tech-face-lift-takes-the-sting-out-of-checkpoints--but-not-of-the-occupation/2019/06/11/3bda3690-78bf-11e9-a7bf-c8a43b84ee31_story.html (21 September 2021 geraadpleeg).

Feldman, N. 2021. Who is a Jew? Israel’s Supreme Court expands the answer. https://www.bloomberg.com/opinion/articles/2021-03-02/israel-expands-its-right-of-return-and-sparks-a-debate (22 September 2021 geraadpleeg).

Freedom House. 2021. Freedom in the world 2021: Israel. https://freedomhouse.org/country/israel/freedom-world/2021 (24 Augustus 2021 geraadpleeg).

Galtung, J. 1969. Violence, peace, and peace research. Journal of Peace Research, 6(3):167–91.

Goldstone, R. 2011. Israel and the apartheid slander. The New York Times. https://www.nytimes.com/2011/11/01/opinion/israel-and-the-apartheid-slander.html (24 Mei 2021 geraadpleeg).

Goodman, H. 2021. I left apartheid SA. Applying the term to Israel is disingenuous. Politicsweb. https://www.politicsweb.co.za/news-and-analysis/applying-the-term-apartheid-to-israel-disingenuous (3 Junie 2021 geraadpleeg).

Hague, R., M. Harrop en J. McCormick. 2019. Comparative government and politics. Londen: Red Globe Press.

Human Rights Watch. 2020. Q&A: The International Criminal Court and the United States. https://www.hrw.org/news/2020/09/02/qa-international-criminal-court-and-united-states#5 (18 Maart 2022 geraadpleeg).

—. 2021. A threshold crossed: Israeli authorities and the crimes of apartheid and persecution. https://www.hrw.org/report/2021/04/27/threshold-crossed/israeli-authorities-and-crimes-apartheid-and-persecution (1 Junie 2021 geraadpleeg).

Kershner, I. 2021. The Arab party Raam makes history within coalition. The New York Times. https://www.nytimes.com/2021/06/02/world/middleeast/arab-party-raam-coalition.html (5 September 2021 geraadpleeg).

Krauss, J. 2021. Report: Israeli settler population surged during Trump era. https://apnews.com/article/race-and-ethnicity-israel-coronavirus-pandemic-west-bank-jerusalem-c43de2ad0da01ef3d9b174691290338d (22 September 2021 geraadpleeg).

Laub, K. en M. Daraghmeh. 2018. For Palestinians, Israeli permits a complex tool of control. https://apnews.com/article/west-bank-israel-middle-east-international-news-ap-top-news-7cfac1e5441747da841e51fdf3851460 (7 September 2021 geraadpleeg).

Lee, B.X. 2019. Violence: An interdisciplinary approach to causes, consequences, and cures. Hoboken: Wiley-Blackwell.

Lingaas, C. 2015. The crime against humanity of apartheid in a post-apartheid world. Oslo Law Review, 2(2):86–115.

Omer-Man, M. 2019. Who gets to vote in Israel’s version of democracy. 972 Magazine. https://www.972mag.com/gets-vote-israels-democracy-2019 (22 September 2021 geraadpleeg).

Peteet, J. 2016. The work of comparison: Israel/Palestine and apartheid. Anthropological Quarterly, 95(86):247–82.

Reuters. 2020. Israel hands over $1 billion in Palestinian tax backlog in sign of warming ties. Reuters. https://www.reuters.com/article/us-israel-palestinians-tax-idUSKBN28C1IL (7 September 2021 geraadpleeg).

Times of Israel. 2021. Israel’s population rises to over 9.3 million on Rosh Hashanah eve. https://www.timesofisrael.com/israels-population-stands-at-over-9-3-million-on-rosh-hashanah-eve (6 Oktober 2021 geraadpleeg).

The World Bank. 2021. GDP per capita, PPP (current international $) – West Bank and Gaza, Israel. https://data.worldbank.org/indicator/NY.GDP.PCAP.PP.CD?locations=PS-IL (7 September 2021 geraadpleeg).

United Nations. 2021. Israeli occupation of Palestinian Territory: In facts and figures. https://www.un.org/unispal/in-facts-and-figures (25 Augustus 2021 geraadpleeg).

 

• Die fokusprent deur RJA1988 by hierdie artikel is geneem van Pixabay.


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Israel en die Palestyne: Is daar ’n bewind van sistematiese onderdrukking wat ’n nuwe apartheid uitmaak? appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 795

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>