|
Opsomming
Die meeste klassieke Pinksterkerke beskou profesie as ’n charismatiese woord wat aan God toegeskryf word, as voortsetting van die beoefening van profesie in die Hebreeuse Bybel en die vroeë Christelike kerk, selfs al verskil die gesag daarvan skynbaar. Hierdie artikel ondersoek Pinksterkerke se siening van profesie in die lig van Bybelse gegewens en kerklike tradisies. Dit bied ’n breë en kritiese oorsig van die raamwerk van die Pinksterteologiese siening van profesie om te beoordeel of hulle beoefening van profesie in kontinuïteit staan met historiese sieninge daarvan. Die artikel ondersoek die hermeneutiese standpunt van Pinksterkerke dat die Bybel nie bloot aandui wat God voorheen vir mense gedoen het nie, maar ook wat God steeds wil doen. Daarom neem hulle aan dat God steeds deur profete praat en dat profesie dikwels ’n sosiale en godsdienstige kritiek aan die gemeente of individu rig. Aangesien profesie in die verlede bestaande praktyke gekritiseer het en dus ’n bedreiging vir kerklike instellinge ingehou het, word ondersoek hoe kerklike gesagstrukture profesie geleidelik sou uitgeskakel het sodat die geestelike gawes geroetineer is. Die kontinuïteit wat Nuwe-Testamentiese tekste en die vroeë kerk tussen hulle uitlewing van profesie en dié van die Hebreeuse Bybel voorsien het, word deur Pinksterkerke nagevolg. Die beweging wil daarmee ’n doelgerigte genesende gemeenskap wees wat die waardes en beoefening van die vroegste kerk navolg.
Trefwoorde: geestelike gawes; Hebreeuse Bybel; hermeneutiek; kontinuïteit; Nuwe Testament; Pinksterkerke; Profesie; vroeë kerk
Abstract
Prophecy in the Hebrew Bible, early Christianity and contemporary Pentecostalism: A question about continuity and discontinuity
Prophecy plays an integral part in the spirituality and worship of the Pentecostal movement. Although it exists in diverse forms, the essence of charismatic prophecy is that it is understood to contain a word ascribed to God that is relevant to a person or group of people. The presupposition is that their prophecy stands in continuity with the phenomenon found in the Hebrew Bible as well as in the New Testament and the early church. This article provides a critical investigation of this presupposition, posing the question whether there is a demonstrable continuity between these different phenomena which are separated not only in terms of time, but also in terms of function and essence. This should be answered in the light of the hermeneutical approach in Pentecostal theological tradition that the Bible does not merely contain information about God, but intends to introduce the contemporary believer to God. The believer will experience what biblical people experienced in an encounter with God, including various charismatic revelations, such as prophecy. Therefore Pentecostalists do not read the Bible for the purpose of formulating theological doctrines but to order their practice. They expect to hear directly from God, not only when the Holy Spirit explains Scriptures, but by a direct, extrabiblical word, insight, dream or vision that reveals God's will and word for a current situation. The study provides an overview of the framework of the Pentecostal view of prophecy, in order to view the framework itself critically.
Prophecy is defined as a word attributed to the inspiration of the Lord through the Spirit. Pentecostals assume that God still speaks through prophets and prophecy that often contains social and religious criticism against the church or individuals. Prophecy in the Hebrew Bible displays diversity, sometimes as the interpretation of dreams and visions and at other times as insights formed in the mind. It can also be experienced as powerful and emotional in the life of the prophet, leading to actions reminiscent of the behaviour of a drunken or disturbed person. Prophecy is also taken seriously, whether as an answer to a question or as a word ascribed to God's initiative. The individual to whom it was addressed took it seriously and so did the people gathering at the temple or court. Prophetic messages were tested at times because false prophets consistently posed a threat. In cases where prophecy contained words of encouragement, it could be tested on the basis of existing revelation and in cases where it contained prediction, the test was whether it came true or not. Where Moses wished that God's entire people should be prophets, Joel announced that this would happen when God pours the Spirit over people of all age groups and genders and every socio-economic status.
In New Testament times Paul emphasised that prophecy is no longer limited to some gifted individuals, but that the Spirit equips all believers to serve the church. The practice of prophecy as outlined in 1 Corinthians differs from prophecy in the Hebrew Bible, where prophets did not submit their message to the people's judgement to discern whether or not it was acceptable. Jewish prophets spoke their word as authoritative, as the word of YHWH. Prophecy in 1 Corinthians did not require divine authority, but had to encourage and comfort the congregation. The practice in contemporary Pentecostalism still is to judge and discern prophecies before they are accepted. The Bible is used as criterion against which a prophecy is measured. Pentecostals argue that in the Hebrew Bible and early church, prophecy was regarded as a threat to institutional structures. Structures of authority in the church gradually eliminated prophecy. Religious experience was replaced by religious text and emerging authoritarian structures (such as the bishops’ exclusive right to interpret the Bible). Rituals were controlled and performed exclusively by the priest. Within one generation, denominations that became part of or were established in the classical Pentecostal movement became institutionalised and established a professional pastorate because of their cooperation with evangelicals. Prophecy now gained a further important function, namely to critically evaluate the practice of the local congregation and professional leadership from the perspective of charismatic inspiration.
Possible similarities and contact points between the phenomenon of prophecy in the Old and New Testament, the early church and contemporary Pentecostal churches are the following: Revelation, consisting of words, insights, images, dreams or visions, underpins a diversity of numinous experiences. The congregation within its worship service is the context for the practice of this gift of proclaiming God's Word, apart from preaching and teaching. Theoretically, anyone who participates in worship can and may prophesy. Persons of both genders and all age groups are encouraged to be channels of communication through prophecy. The expectation of 1 Corinthians 14:3 can be fulfilled as a result of prophetic practices. True Christian prophecy is a mixed phenomenon that has limited authority. It requires discernment and assessment by the congregation and leadership before it can be accepted and executed. The prophet is not connected to an office in the congregation and can thus afford to be critical of existing practices and teaching. The inspired speech also addresses unbelievers.
Nuances in the definition of prophecy as well as its practice in the church have probably shifted with time. What can be historically determined is that charismata, including prophecy, came under the control of, or were totally blocked by, religious institutions. Contemporary charismatic prophecy is not infallible, faultless or absolute. It has only relative authority. Even when it is considered true and valid it does not mean that people or groups must perform what it suggests, just as Paul had accepted the prophecy that he was to be captured in Jerusalem and still decided to go to the city where he was arrested.
The conclusion is that all modern prophecy must be evaluated in the light of existing orthodox doctrinal norms, which implies the test of the Bible itself. A further conclusion is that the New Testament and early church assumed continuity between their practice of prophecy and that of the Hebrew Bible. This is also the case with the Pentecostal movement, which intends to restore the values and practices of the earliest church.
Keywords: continuity; early church; Hebrew Bible; hermeneutics; New Testament; Pentecostals; prophecy; spiritual gifts
1. Inleidend
Profesie speel ’n belangrike rol in die erediens en lewe van individue in die klassieke Pinksterbeweging.1 Die veronderstelling is dat dit deesdae in kontinuïteit beoefen word met die verskynsel van profesie in die Hebreeuse Bybel, die Nuwe Testament en die vroeë kerk. Die vraag is egter of daar inderdaad kontinuïteit bestaan tussen dié onderskeie verskynsels wat deur tydsverloop, in funksie en in wese, van mekaar geskei is. Dit kan beantwoord word alleenlik indien die hermeneutiese invalshoek in Pinksterteologie in gedagte gehou word, dat die Bybel nie slegs inligting aangaande God en God se handelinge met mense in die geskiedenis bied nie, maar die eietydse gelowige aan God voorstel. Tydens ’n ontmoeting met God ervaar die gelowige wat Bybelse mense beleef het, insluitend verskeie charismatiese openbarings, soos profesie. Daarom lees Pinksterkerke die Bybel nie om teologiese leerstellings te formuleer nie, maar om hulle beoefening aan die hand daarvan te orden. Hulle verwag om steeds direk van God te hoor, en nie slegs wanneer die Heilige Gees die Skrif uitlê nie. Dit vind plaas aan die hand van ’n direkte woord, insig, droom of visioen wat die openbaring van God se wil en woord bevat.2 Die vraag is dus of dit moontlik is om ’n kontinuïteit te veronderstel tussen die verskynsel van profesie in die Hebreeuse Bybel, die Nuwe-Testamentiese kerk en hedendaagse Pinksterkerke se uitlewing van profesie. Hierdie studie bied ’n breë oorsig van die raamwerk van die Pinksterteologiese siening van profesie, met die doel om die breë raamwerk self aan ’n kritiese blik te onderwerp.
2. Profesie in die Hebreeuse Bybel
Die bespreking van Bybelse gegewens rakende profesie en profetiese aktiwiteit moet in die lig van ooreenkomste met groter historiese, godsdienstige en kulturele agtergronde en konteks bespreek word. In die Antieke Nabye Ooste het die verklaring van tekens, drome en visioene in diens van waarsêery gestaan met die doel om die destydse omstandighede in terme van die gode se bedoelings te begryp, om navraag te doen oor die wysheid van sekere dade in die alledaagse lewe of om die toekoms te voorspel (Poloma en Lee 2013:75). Sodanige praktyke word deur die Hebreeuse Bybel verbied omdat “profesie” vir Israel aanvaarbaar was slegs as dit die woord van JHWH oorgedra het (Robeck 1988:731). Eksodus 4:10–16 (vgl. 7:1–2) verduidelik aan die hand van Aäron, wat as profeet vir Moses aangestel word, dat ’n profeet iemand is wat namens iemand anders die woord voer. Moses sal (as of soos God) die boodskap aan Aäron oordra wat dit as die mondstuk (of profeet) oordra.3 Moses beskou homself as ’n profeet (Deut. 8:15: נָבִ֨יא מִקִּרְבְּךָ֤) omdat sy woorde van God af kom.4 Die implikasie is dat die persoon wat profeteer, nie die woorde uitdink nie, maar slegs die boodskap oordra.5 Daar is ook nie verwarring tussen die boodskapper en die een wie se boodskap oorgedra word nie. Die profeet tree in die naam van die opdraggewer op slegs indien die boodskap oorgedra word wat aan haar of hom toevertrou is.
Die profetiese beweging as ’n veelgestaltige historiese verskynsel en ’n wesenlike deel van Israel se teopolitieke struktuur gaan terug na Samuel en sy volgelinge in die 11de eeu v.C. ten tye van die oorgang van die rigters na die begin van die monargie (Freedman 1997:59). 1 Samuel 9:9 bevat die interessante opmerking dat die profeet (נָּבִיא) van destyds voorheen “siener” (הָרֹאֶ֑ה) genoem is, wat daarop dui dat ’n duidelike verband tussen drome, visioene en profesieë bestaan het,6 soos in die geval van Jesaja (6), Esegiël (1, 8) asook Amos (7:1–9) en Jeremia (23:25). In ander gevalle ontvang profete insig in die betekenis van eietydse katastrofes soos sprinkaanplae, droogtes, peste en bosbrande (bv. Joël 1:1 – 2:11)7 sodat hulle verduidelik wat hulle verstaan JHWH hierdeur vir sy volk wil sê. 1 Samuel 10:5–6 verduidelik dat nadat Samuel vir Saul tot eerste koning van Israel gesalf het, hy op ’n groep profete afgekom het wat onder begeleiding van harpe, tamboeryne, fluite en liere geprofeteer het.8 Dan werk die Gees van JHWH kragtig in Saul, hy tree saam met hulle as profeet op en word ’n ander mens (וְנֶהְפַּכְתָּ֖ לְאִ֥ישׁ אַחֵֽר). Dit skep die indruk dat die vrug van profesie is dat die profeet se lewe deur die werking van die Gees geheilig word om op een lyn met die Opdraggewer te kom.9 In Saul se geval gaan profetiese aktiwiteit gepaard met ekstatiese verskynsels. Wanneer hy volgens 1 Samuel 19:18–24 weer by Rama aankom om Dawid te soek, gaan hy na die profetekwartier, waar die Gees oor hom kom en hy so in die loop begin profeteer.10 Daar aangekom, trek hy sy klere in die teenwoordigheid van Samuel uit en lê die hele dag en nag net so op die grond.11 Die vreemdheid van die koning se optrede noop die vraag: “Is Saul ook onder die profete?”
Sommige profete het telepatiese en heldersiende gawes besit. Elisa het die reputasie gehad dat hy geweet het wat ’n koning in die geheim van sy slaapkamer sê (2 Kon. 6:12), terwyl Esegiël (8–11) bewus was van wat met Jerusalem gebeur, selfs al het hy in Babilonië gebly. Profesie het soms met verbasende psigiese insigte gepaard gegaan, soos blyk uit profete se gedetailleerde beskrywings van sake waarvan hulle nie gewone kennis kon gehad het nie (bv. 1 Kon. 13:2; Jes. 44:28; vgl. ook Hand. 9:11–12). Profesie kan volgens die Hebreeuse Bybel ook met musiek gepaard gaan (1 Kron. 25:1, 3, 6; Ps. 89:19–37; 150:3–5).
Die Hebreeuse Bybel beskryf (egte) profesie op twee wyses, t.w. waar sommige mense ’n woord bring wat hulle meen God se gedagtes oor ’n situasie verteenwoordig; en die skriftelike neerslag van ’n deel van die profete se verkondiging. Wat belangrik is, is dat nie alle profete se woorde opgeteken is nie en dat profete ’n politieke en sosiale invloed uitgeoefen het.
Die Hebreeuse Bybel interpreteer die Gees as die teenwoordigheid van JHWH met charismaties-profetiese en religieus-etiese uitdrukkings (Rabens 2012:149). Profete het soms tekens van ekstase getoon wanneer die Gees oor hulle gekom het (bv. Num. 11:25; 24:2–3; Rig. 14:6; 15:14; 1 Sam. 10:6; 10:10; 19:20; 2 Kron. 20:14–5), terwyl daar duidelik die verwagting was dat die teenwoordigheid van die Gees in die toekoms sal intensiveer (vgl. Hand. 2:15–8 se benutting van Joël 3:1–2; Heliso 2012:163–4).
Die profeet is ’n sosiale analis wat sosiokontekstuele kommentaar lewer op die samelewing vanuit die perspektief van geloof in God se betrokkenheid by die mens en derhalwe oorgeërfde strukture kritiseer wat nie voldoen aan God se bepalings nie. Hy of sy was ook segsman vir die onderdruktes, ’n stem wat namens die geloofsgemeenskap vir die verontregte opkom (Fourie 1990:11–2). Die profete was akuut bewus van die nood, pyn en wanfunksionering van hulle samelewing. Volgens hulle kon dit net op rampspoed uitloop. Hulle het ook die moed gehad het om ’n toekoms uit te beeld wat Israel nooi om verby wanhoop te droom (Brueggemann 1997:625–6). Die verbeelde toekoms is dikwels subversief ingekleur (Von Rad 1965:263–77); dit ondermyn doelbewus die status quo om as kritiek daarop te dien. Profete gebruik appèl op die goddelike raad, ’n boodskapperformule en roepingsnarratiewe om gesag aan uitsprake te verleen wat dikwels menslike instellings doelbewus ondermyn (Barton 2007:272). Dit gebeur byvoorbeeld in die geval van die spanning tussen Samuel en Saul, Natan en Gad teenoor Dawid, en Elia teenoor Agab (Niehr 1998:215).12
Freedman (1997:67) onderskei tussen twee historiese fases in die ontwikkeling van profetiese aktiwiteit. Eerstens is daar ’n fase wat met Samuel en sy volgelinge begin en strek tot by Elia en Elisa, en ’n tweede periode strek van die Skrifprofete in die vroeë 8ste eeu v.C. tot aan die einde van die profetiese kanon in die 6de of 5de eeue.13 Albei periodes word gekenmerk deur ’n klem op die etiese dimensie van godsdiens en die manier waarop dit die nasie beïnvloed, soms in teenstelling met die kultiese domein van die priesters. Die oorlewing en sukses van die gemeenskap hang meer af van die geregtigheid van die nasie en sy leiers as van die kultiese aktiwiteite van die priesters of die militêr-politieke of sosio-ekonomiese uitbuiting deur die koning en sy geselskap. Elke Israeliet/Jood het die verantwoordelikheid gehad om die bevele van God te gehoorsaam en aan God se verordeninge te voldoen. Afgodsdiens moes dus hok geslaan word. Terselfdertyd is verpligtinge teenoor die naaste dikwels deur die profete beklemtoon. Ten spyte van hierdie klemverskuiwings bly die basiese etiese vereistes dieselfde. Later verander die politieke toneel: kleiner nasies in die weste kom teen neo-Assirië van die 8ste eeu en neo-Babilonië van die 7de eeu te staan, en die toekoms van Israel en Juda kom aan bod. Israel se God heers oor al die nasies en het ’n besondere verhouding met twee klein koninkryke. Geloof in God stel die volk daartoe in staat om van ’n herstelde Israel te droom wat sy plek tussen die ander nasies inneem as hoof van ’n ryk wat deur harmonieuse oplossing van konflikte gekenmerk word (Jes. 2:1–4; Miga 4:1–4). Persoonlike geloof en moraliteit vorm die kern van profetiese godsdiens met wêreldwye sosiale en nasionale implikasies.
Opsommend word profesie in die Hebreeuse Bybel gekenmerk deur die profeet se oortuiging dat die verkondiging van God se woord die situasie radikaal sal verander. Die woord is ’n aktiewe bestanddeel wat by die situasie gevoeg word sodat dit in ’n spesifieke rigting beweeg (Motyer 1962:1038).
3. Profesie in die Nuwe Testament
Die Griekse προφητευώ beteken om onder invloed van goddelike inspirasie te praat, met of sonder verwysing na toekomstige gebeure (Louw en Nida 1996:440 [33.459]). ’n Profeet is dan ’n verkondiger, verklaarder of vertolker van goddelike sake wat nie onder normale omstandighede bekend kan wees nie en daarom die produk van spesiale openbaring is (Matthews 1979:723). Die profeet praat namens, in die naam van of op gesag van God en voorsien geen persoonlike bydrae tot die kommunikasie wat oorgedra word nie (Aune 1983:204).14
Die Nuwe Testament verwys ook na “profete”. Aune (1983:82) meen dat “profesie” vir die meeste Palestynse Jode van die laat Tweede Tempel-periode, wat afsluit met die vernietiging van die tempel in 70 n.C., verwys na ’n verskynsel wat tot die verre verlede of eskatologiese toekoms beperk is. Slegs in apokaliptiese sektes wat die einde spoedig verwag het, was profesie ’n teenswoordige ervaring. Ná die vernietiging van die monargie en nasionale onafhanklikheid in die laat 7de en vroeë 6de eeu v.C. transformeer profetiese optrede en spraak, wat o.a. tot die kanonisering van Hebreeuse geskrifte lei, ’n proses wat grootliks teen die eerste eeu v.C. afgehandel is, en wat klassieke Israelitiese profesie tot ’n unieke, heilige en paradigmatiese status verhef. Alhoewel apokaliptiese geskrifte gedurende die laat Tweede Tempel-periode floreer, maak die spesiale rol wat aan Joodse geskrifte toegeskryf word, dit noodsaaklik en wenslik vir latere vorme van mondelinge en geskrewe openbaring om ernstig met kanoniese openbaring rekening te hou (Aune 1983:82).
Handelinge 11:27 vertel dat profete vanaf Jerusalem na Antiogië beweeg het. Een van hulle, Agabus, voorspel dat ’n hongersnood die hele bewoonde wêreld gaan tref, wat dan ook in Claudius se tyd gebeur het (Hand. 11:28). Hieruit kom die inisiatief om die Christene in Judea met vrywillige bydraes te ondersteun (Hand. 11:29; Rom. 15:28).
Christene het op minstens twee wyses profesie benut: deur die Hebreeuse Bybel Christologies te lees en verwysings te interpreteer sodat dit na Christus verwys (Matt. 1:22; 2:5; 2:15; 2:17; 3:3; 4:14; 8:17; 12:17; 12:39; 13:35; 21:4; 24:15; 27:9; Luk. 24:19; Joh. 4:19; 6:14; 7:40; 9:17), en deur verwysings na die “eindtyd” in die Hebreeuse Bybel asook in Jesus se woorde en hul eie geskrifte as (toekoms-) voorspellings te interpreteer. Profete in die Hebreeuse Bybel sowel as in die persoon van Jesus (Matt. 14:5; 21:26; Mark. 6:15; 11:32 verduidelik dat die volk Jesus as ’n profeet beskou het), asook ander verkondigers (Luk. 1:76; 7:26; 20:6 verwys na Johannes), is beskou as “fore-tellers” (voorspellers) asook “forth-tellers” (vertellers) (Motyer 1962:1038; Maguire 2013:58).15
Die vroeë Christene het hul geloof gebaseer op wat hulle beskou het as die vervulling van profesie in die Hebreeuse Bybel in die inkarnasie, dood en opstanding van Jesus. Om twee voorbeelde te noem: wanneer Petrus op Pinksterdag sy eerste preek lewer waarin hy verduidelik wat gebeur het, gryp hy terug na Psalm 16:9–10 waarvolgens koning Dawid reeds die opstanding van die Messias voorspel het (Hand. 2:26–27); en die skrywer van 1 Petrus 2:24–25 verwys na Deuterojesaja se lydendekneg-voorspellings as ’n voorafskaduwing, of profesie, van die omvang van die effek van Christus se kruisdood.16 Matteus, wat sy Evangelie aan die Jode rig en die midrasj-wyse van vertelling gebruik (Dennert 2013:33–8; Nolland 2005:21), baseer moontlik sy boek op die Pentateug met die doel om Jesus as die nuwe Moses uit te beeld wat die volk uit die slawerny van sonde lei, maar ook om Jesus as vervulling van o.a. die Pentateug se profesieë te skets (Deut. 18:18). Profesie het in die Nuwe Testament beteken dat die profete se woorde op Jesus as die Messias toegepas is, benewens gevalle waar profete ’n eietydse woord vir ’n spesifieke geleentheid gehad het.17
3.1 Paulus en profesie
Pinksterteoloë meen dat Paulus ’n onderskeid tref tussen profesie (προφητεία) as een van die geestelike gawes18 (Riedecker 1976:428) en die profeet as ’n gawe aan die kerk (Ef. 4:11 καὶ αὐτὸς ἔδωκεν τοὺς μὲν ἀποστόλους, τοὺς δὲ προφήτας, τοὺς δὲ εὐαγγελιστάς, τοὺς δὲ ποιμένας καὶ διδασκάλους – verder het hy sommiges aangestel as apostels, ander as profete,19 ander as evangeliste, ander as herders en leraars) vir die toerusting van die heiliges tot opbou van die liggaam van Christus (Ef. 4:12) (Gaffin 1979:58). Die verskil tussen “profesie” en “profeet” is dat enige Geesvervulde die gawe mag ontvang om by ’n geleentheid ’n woord te bring wat van die Here kom, terwyl die profeet haar- of homself bewys het as iemand wat oor ’n lang periode die kerk met die profetiese woord betroubaar bedien, met die gevolg dat die persoon se boodskap as gesaghebbend beskou kan word (Horton [1934] 1975:161; Möller 1975:205–6).20 So ’n onderskeid kan egter nie op grond van Bybelse gegewens geregverdig word nie, aangesien die Nuwe Testament bloot verwys na “profete” en “profesie”.21 Uit die Didache blyk dit dat die vroeë kerk die verskynsel geken het van rondreisende profete en profete wat aan ’n gemeente verbonde was (vgl. bespreking verder aan),22 terwyl dit lyk of Paulus se Korinte-verwysings na profesie na ’n verskynsel binne ’n spesifieke gemeente verwys.
Die gawe om te profeteer word in verdere besonderhede in 1 Korintiërs 12–14 beskryf in terme van die Geesvervulde mens wat by geleentheid geïnspireer word om ’n woord na die gemeente te bring.23 Paulus wil, soos Moses (Num. 11:29), dat alle gelowiges profeteer en hy moedig sy lesers aan om daarna te streef om dié spesifieke gawe te ontvang (1 Kor. 14:1, 5, 39), maar beklemtoon terselfdertyd dat profesie slegs een van vele genadegawes is (Witherington 1995:255). As Paulus sy lesers aanmoedig om geestelike liedere (ᾠδαῖς πνευματικαῖς; Ef. 5:18–19; Kol. 3:16) te sing, dui dit waarskynlik daarop dat liedere in die vroeë kerk soms ’n profeties-ekstatiese element bevat het (Porter 2000:712). Elke gelowige besit die Gees,24 maar die Geesvervulde mens besit ook die potensiaal om te profeteer (of enige van die ander gawes te ontvang), wat die Gees gee (1 Kor. 12:8–11). Tog gee die Gees die onderskeie gawes aan verskillende persone om die liggaam van Christus te dien (1 Kor. 12:29 se retoriese vraag of almal profete is, verwag duidelik ’n negatiewe respons).25 1 Korintiërs 11:5 onderstreep ook dat die gawes (insluitend profesie) nie aan geslag gekoppel word nie: vroue bid en profeteer binne die konteks van die erediens (Prime 2005:96).
1 Korintiërs 13:8 verduidelik dat die gawes sal verdwyn, ophou en uitgedien raak; met ander woorde, dat dit onvolmaak en tydelik is (καταργηθήσονται … παύσονται ... καταργηθήσεται ̶ sal nie langer meer geld nie, sal laat staak, sal ophou) in die lig van die volmaakte of volledige (1 Kor. 13:10, τὸ τέλειον) wat op pad is wanneer Christus terugkom.26 Intussen dien dit ’n duidelike doel, soos 1 Korintiërs 14:3 uitspel: iemand wat profeteer, praat woorde wat opbou (versterk, potensiaal laat verwesenlik), bemoedig (versterk of help) en vertroos (oortuig) (λαλεῖ οἰκοδομὴν καὶ παράκλησιν καὶ παραμυθίαν) (Forbes 1995:237).27 Dit is alles primêr op gelowiges gerig (1 Kor. 14:22), alhoewel dit ook ’n evangelistiese doel kan dien om ongelowiges se gewete aan te spreek (etiese doelwit) sodat hulle tot selfondersoek kom, die verborge dinge van hul harte aan die lig kom en hulle voor God neerbuig in erkenning dat God by die gelowiges is (1 Kor. 14:24–25) (Bartlett 2012:261).28 Dit herinner aan Johannes 4:9–26 se beskrywing van hoe die Samaritaanse vrou by die put van Sigar op Jesus as profeet reageer (vgl. Joh. 4:19, Κύριε, θεωρῶ ὅτι προφήτης εἶ σύ – “Meneer, ek sien dat jy ’n profeet is”).
Die belangrikheid van die gawe om te profeteer word deur Paulus beklemtoon wanneer hy in 1 Korintiërs 14 riglyne verskaf vir die beoefening daarvan in eredienste (teenoor die spreke in tale): profesie moet die opbou van die gemeente dien (1 Kor. 14:26), asook gelowiges leer en bemoedig (1 Kor. 14:31, ἵνα πάντες μανθάνωσιν καὶ πάντες παρακαλῶνται – sodat almal inligting deur instruksie ontvang en almal opgebou en vertroos kan word) as weerspieëling van die Gewer, wat gekenmerk word deur vrede en orde (1 Kor. 14:33; Möller 1975:144–5).29
Paulus se verduideliking toon dat profetiese leierskap deur die gemeente gedeel word (1 Kor. 14:29–31) en dat die klem op die boodskap wat die Gees van God bring val, eerder as op diegene wat as geïnspireerde bemiddelaars dien (Robeck 1988:732).30 Leierskap word nie institusioneel of demokraties nie, maar charismaties en pneumatologies bepaal (Langerman 1983:51; Lederle 1988:69).31 Wat belangrik is, is dat die begaafde die gemeente in die erediens dien en nie eiebelang nastreef nie (1 Kor. 14:1–12); derhalwe die opdrag: streef daarna om uit te munt in die gawes wat die gemeente opbou (1 Kor. 14:12, πρὸς τὴν οἰκοδομὴν τῆς ἐκκλησίας ζητεῖτε ἵνα περισσεύητε ̶ maak dit julle prioriteit om daardie gawes te soek wat die kerk opbou – Bartlett 2012:256).
Profesie is volgens die beskrywing van 1 Korintiërs 14:32 nie ’n ekstatiese ervaring wat mense oorweldig sodat hulle beheer oor hulself verloor nie: die profeet bly in beheer van sy gees (καὶ πνεύματα προφητῶν προφήταις ὑποτάσσεται – die geeste van profete is ook aan die profete onderworpe). Die profeet se persoonlikheid verdwyn nie in die goddelike nie (1 Kor. 14:30). Profetiese bydraes tot die erediens word ook beperk. Slegs twee of drie persone word toegelaat om profetiese boodskappe te deel (1 Kor. 14:29), en die gemeente moet hulle woorde weeg op grond van gedetailleerde inligting (οἱ ἄλλοι διακρινέτωσαν; Louw en Nida 1996:363 [30.109]).
Alhoewel profesie ’n essensiële deel van die erediens vorm (ten minste in die Korinte-gemeente), is dit duidelik dat Paulus dit slegs as een van verskeie ander elemente beskou en dat dit nie oorbeklemtoon mag word ten koste van ander gawes nie (1 Kor. 14:26). Profesie mag nie die byeenkomste oorheers of as onafhanklike gesag dien nie (Robeck 1988:733).
In sy vroeër brief, 1 Tessalonisense, het Paulus gewaarsku dat die werking van die Gees nie teengestaan moet word nie (μὴ σβέννυτε – letterlik: dat die vuur nie geblus moet word nie) en dat profesieë nie gering geskat mag word nie (μὴ ἐξουθενεῖτε – daar mag nie daarop neergesien word asof dit van geen waarde of nut is nie ̶ Louw en Nida 1996:762 [88.195]). Alles moet getoets word vir die egtheid daarvan (πάντα δὲ δοκιμάζετε) en die goeie moet behoue bly, terwyl weggebly word van die slegte (1 Tess. 5:19–21). Vir Paulus funksioneer die gawe van profesie deurgaans tesame met die gawe om te onderskei tussen die goeie en die slegte (διακρίσεις πνευμάτων) (1 Kor. 12:10; 1 Tess. 5:20–21). In dieselfde sin funksioneer die gawe van spreke in tale saam met die gawe om tale uit te lê of te interpreteer (1 Kor. 12:10b) (Bartlett 2012:220).32 Profesie is nie as sodanig die woord van God nie; dit moet eers deur die geloofsgemeenskap beoordeel word.33 Hieroor voel Paulus so sterk dat hy dit as ’n opdrag van die Here beskou (ἃ γράφω ὑμῖν ὅτι κυρίου, 1 Kor. 14:37).
3.2 Lukas-Handelinge en profesie
Lukas bied in Handelinge voorbeelde van profetiese aktiwiteite wat eg is sowel as dié wat demonies van aard is (vgl. ook Jesus se woorde in Matt. 7:15; 24:11, 24).34 Soos in die geval van die Hebreeuse Bybel, dien dit as waarskuwing, soos geïllustreer in Paulus se optrede teenoor die slawemeisie van Filippi met ’n gees van waarsêery (Hand. 16:16, πνεῦμα πύθωνα – gees van die slang Pithon wat deur Apollo doodgemaak word; Louw en Nida 1996:148 [12.48]) wat agter hom en Silas aanloop en sê dat hulle manne van God is wat die boodskap van redding verkondig (Hand. 16:17, Οὗτοι οἱ ἄνθρωποι δοῦλοι τοῦ θεοῦ τοῦ ὑψίστου εἰσίν, οἵτινες καταγγέλλουσιν ὑμῖν ὁδὸν σωτηρίας). Alhoewel sy die waarheid praat, dryf Paulus die gees (τῷ πνεύματι) in Jesus se Naam uit haar uit (Hand. 16:18).35 Lukas se vertelling impliseer dat profesie getoets moet word, nie aan die hand van die waarheid daarvan nie, maar volgens die gees wat dit inspireer (wat aansluit by 1 Kor. 12:10 se “onderskeiding van die geeste”). Demonies-geïnspireerde boodskappe kan op evangeliese waarhede gebaseer wees (Lenski 1961:666).
Lukas bied in Handelinge twee voorbeelde van profesie wat deur die kerk aanvaar is: Agabus, wat as ’n profeet tipeer word (hy kom saam met ’n groep aan ̶ κατῆλθον ἀπὸ Ἱεροσολύμων προφῆται εἰς Ἀντιόχειαν; Hand. 12:27) en voorspel ’n hongersnood (Hand. 11:28–30; sy profesie word in die Skrif aangeteken) en Paulus wat in paradoksale taal daarop gewys word dat vervolging en gevangenskap op hom wag, wat waarskynlik na profesieë daaroor verwys (Hand. 20:22–23). Paulus vermeld dat hy op pad is na Jerusalem, gedryf deur die Heilige Gees (δεδεμένος ἐγὼ τῷ πνεύματι) sonder om te weet wat daar met hom gaan gebeur, alhoewel die Gees hom in elke stad waarsku wat vir hom wag. Wanneer hy in Tirus kom, waarsku die gelowiges hom, gelei deur die Gees (διὰ τοῦ πνεύματος), om nie Jerusalem toe te gaan nie (Hand. 21:4).36 In Sesarea gebeur dieselfde wanneer Paulus by Filippus tuis gaan saam met sy vier ongetroude dogters wat die gawe het om te profeteer (θυγατέρες τέσσαρες παρθένοι προφητεύουσαι) (Hand. 21:9). Na ’n rukkie daag Agabus, ’n profeet uit Jerusalem, op, (vgl. Hand. 11:27–29), wat simbolies demonstreer, soos profete in die Hebreeuse Bybel ook soms gedoen het, dat Paulus gebind sal word en aan die heidene uitgelewer sal word. Agabus se openingswoorde is: “So sê die Heilige Gees” (Hand. 21:11, Τάδε λέγει τὸ πνεῦμα τὸ ἅγιον), wat aan die vroeëre Joodse profete se “So spreek JHWH” herinner. Die voorvalle skep die indruk dat die kerk in Handelinge profesie as iets alledaags en natuurlik beskou het. Ten spyte van duidelike waarskuwings verkies Paulus om Jerusalem toe te gaan, waar die profetiese uitsprake bewaarheid word en hy uiteindelik as gevangene in Rome beland. Die gemeentes interpreteer die profesieë as waarskuwing dat Paulus nie sy planne moet deurvoer nie; Paulus beskou dit as voorbereiding dat hy gaan ly (Nel 1997:164). Daarom gee die gelowiges toe, berus in Paulus se besluit en vra dat die wil van die Here sal geskied (Hand. 21:14).
Lukas se voorbeelde verduidelik dat egte profesie van die Heilige Gees kom en alhoewel dit soms ’n voorspellende element bevat, is dit nie altyd die geval nie. Profesie benodig ook evaluering en beoordeling en vereis toepassing, soos in Paulus se (nie-)benutting van die profesieë oor sy reis na Jerusalem. Selfs wanneer ’n profesie gebring word, is dit nodig dat die gemeente steeds doelgerig na God se wil in die situasie soek (Möller 1975:49).
Volgens Handelinge 2:16–18 interpreteer Petrus die Pinksterervaring in terme van Joël 2:28–29, en stel hy Joël se “profesie” gelyk aan die “spreke in tale” wat die aanwesiges waarneem.37 Lukas verstaan só dat spreke in tale as profetiese spreke geïnterpreteer kan word alhoewel Lukas (soos Paulus) ’n duidelike onderskeid tref. Indien spreke in tale as geïnspireerde spreke deur en oor God geïnterpreteer word, is dit duidelik dat profesie in dieselfde terme beskryf kan word.
3.3 Ander Evangelies, Openbaring en profesie
Die Evangelies skets Johannes die Doper as ’n profeet in kontinuïteit met die Hebreeuse Bybel (Luk. 1:76; 7:26; Matt. 11;9; Joh. 1:21, 25). Die mense om hom interpreteer ook sy bediening as profeties (Mark. 11:32; 14:5; Matt. 21:26; Luk. 20:6). Lukas 1:15 verduidelik dat hy van geboorte vervul is met die Gees (πνεύματος ἁγίου πλησθήσεται ἔτι ἐκ κοιλίας μητρὸς αὐτοῦ).38 As profeet verkondig hy bekering en vergifnis (Matt. 3:7–10; Luk. 3:7–9; Mark. 1:7–8) met die profeties-apokaliptiese verwagting dat die byl die boom gaan afkap en die eskatologiese oordeel Israel se boosheid gaan tref (Matt. 3:10; Luk. 3:9), in navolging van die profete in die Hebreeuse Bybel (bv. Amos 5:4–5; Jer. 4:4–5; 6:1; 50:8–10). Hy berei die weg voor vir een wat kom wat met die Gees en vuur sal doop (Matt. 3:11–12; Luk. 3:16–17; Mark. 1:7–8).
Ook die Evangeliste skets Jesus as ’n profeet (Joh. 1:21; Mark. 8:27–28; Matt. 16:13–14; Luk. 7:16; 9:18–19) alhoewel dit veral Lukas is wat die profetiese rol van Jesus ontwikkel en aandui dat dieselfde lot op Hom wag as op (sommige van) die ander profete (Luk. 4:24; 6:22–23;39 13:34–35).
Johannes die Doper, sowel as Jesus, demonstreer dat profete nie goed by die samelewing inpas nie omdat hulle woorde dikwels die status quo bedreig. Albei word deur Romeinse verteenwoordigers doodgemaak, wat verband hou met die oorheersers se senuagtigheid oor ’n potensiële Joodse opstand.
Openbaring is ’n uitgebreide voorbeeld van Christelike profesie.40 Alhoewel die outeur homself nie ’n profeet noem nie, word die geskrif ’n openbaring (1:1 Ἀποκάλυψις Ἰησοῦ Χριστοῦ) en profesie (1:3 τοὺς λόγους τῆς προφητείας; 22:7, 10, 18–9) genoem. Die sewe briewe volg dieselfde patroon: dit begin met die woorde van die verheerlikte Christus (2:1, 8, 12, 18; 3:1, 7, 14) en eindig met die Gees se woorde (2:7, 11, 17, 29; 3:6, 13, 22). Die profetiese boodskap van Openbaring is die woord van die verheerlikte Christus, die lewegewende Gees (Gaffin 1979:68). Alhoewel Johannes se styl en sommige van sy beelde afkomstig is van apokaliptiese tradisies, staan die skrywer in sy interpretasie van geskiedenis, asook sy sensitiwiteit vir die aktualiteit van sy situasie, in die tradisie van profetiese geloof en proklamasie (Hill 1979:68). Hierdie profesie behels woordeskat, frases en uitgebreide formele spraakelemente in die eerste persoon van die godheid, roepingsnarratiewe, stellings van heilige wetgewing en patrone van instruksie en bekeringsprediking. Hill kom tot die gevolgtrekking dat Johannes op ’n wyse onafskeidbaar van die liggaam van gelowiges is, wat self ook ’n profetiese karakter het. Tog meen hy (Hill 1979:75) dat Johannes se profetiese gesag groter is as die gesag van die groep profete wat hy lei. Die skrywer se bedoeling was dat sy werk in ’n erediens gelees sou word (Op. 1:3; 22:18) en as plaasvervanger vir mondelinge profesieë sou dien, aangesien die outeur in ballingskap was. Die mondelinge aard van die profetiese styl word deur die sewe briewe gedemonstreer waar veral die “Ek weet”-dele die inhoud van elke brief bepaal (Aune 1983:275).
In ander opsigte blyk dit dat Nuwe-Testamentiese profesie van die Ou-Testamentiese profesieë verskil. Laasgenoemde is voorwaardelik van aard (“as julle dit doen, sal dat gebeur”). Die Ou Testament tref ’n onderskeid tussen ware en vals profete, dikwels in reaksie op kultiese profete van die kant van “magtelose” geïnspireerdes.41 Hierdie groep meen dat hulle toegang tot vergaderings van die hemelse kabinet het en namens Israel mag pleit. Maar hulle meen ook dat hulle namens God met Israel kan praat oor God se gedagtes aangaande sy volk.42 Die Nuwe Testament moedig gelowiges aan om profesieë te weeg om te bepaal of dit waar is. 1 Korintiërs 14 skep die indruk dat “profesie” die gesag van algemene inhoud gehad het, maar nie beskou is as ’n letterlike transkripsie van God se woorde nie. Daarom moet die geloofsgemeenskap die woorde van die profesieë beoordeel (1 Kor. 14:29) (Witherington 1995:286). Profesieë in die Hebreeuse Bybel word gekenmerk deur “So sê JHWH” en die indruk word geskep dat dit woordeliks weergee wat JHWH die profeet voorsê (vgl. bv. Eks. 19:3; 2 Kon. 19:7, 28, 33, 35). Die voorval waar Paulus nie aan die profesieë gehoor gee nie, skep die indruk dat profesie in die Nuwe Testament nie dieselfde gesag as “die woord van JHWH” gehad het nie, alhoewel egte profesie die waarheid weergee.
Opsommend: Profesie in die Nuwe Testament is in sommige (belangrike) opsigte gelyk aan die verskynsel in die Ou Testament, waar die woord profesie na uitings verwys wat aan inspirasie van die Gees uit die mond van die Here toegeskryf word. Die Ou-Testamentiese profeet was in ’n unieke posisie as gevolg van die direkte kommunikasie met God deur die werking van die Gees, wat die res van die volk nie beleef of geken het nie. Ná Pinksterdag is alle gelowiges met die Gees vervul, met die gevolg dat die gemeente ’n profetiese gemeenskap word waar elkeen direkte kommunikasie met God mag beleef (Fourie 1990:9). Waar profesie in die Hebreeuse Bybel en die Nuwe Testament wel ooreenstem, is dat dit as simbole van moraliteit en die sosiale gewete van die volk dien (Fourie 1990:10). Profesie word ook verstaan as om namens God te praat, en in sommige gevalle word profesieë aangeteken. In die Nuwe Testament neem mans sowel as vroue aan profetiese aktiwiteite deel, soos ook in die Hebreeuse Bybel. Die profeet is ook nie verbind aan die amptenary van die gemeente nie, soos in die geval van profete wat dikwels nie in diens van die tempel was nie. Die profesie dien ’n dubbele doel: om gelowiges op te bou en om ongelowiges aan te spreek. Profete maak van simboliese handelinge gebruik,43 wat sommige van die ooreenkomste tussen profesie in die Nuwe Testament en die Hebreeuse Bybel beklemtoon.
3.4 Die vroeë kerk en profesie
Die beoefening van profesie is in die vroeë kerk voortgesit (na afsluiting van die Nuwe Testament) waar ruimte vir rondreisende sowel as plaaslike profete bestaan het. Die kerk was immers ’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete (ἐποικοδομηθέντες ἐπὶ τῷ θεμελίῳ τῶν ἀποστόλων καὶ προφητῶν), ’n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is en waarin God woon (Ef. 2:20–22).44 Profesie het algemeen in die “apostoliese” era voorgekom tot ongeveer 70 n.C., waarna dit in die subapostoliese era (70 tot 100 n.C.) skaarser geword het en daarna slegs sporadies voorgekom het tot die opkoms van Montanisme in 170 n.C. (Forbes 1995:247). Daar is redelike bewys dat profesie steeds in die 2de eeu en daarna voorgekom het, in reaksie op die institusionele strukture van die opkomende episkopaat (Stander 1986:89). Profesie het ook nie met die verwerping van Montanisme verdwyn nie. Toe is dit meer dikwels in verband gebring met ’n gawe wat toebedeel is slegs aan bekende heiliges en ander wat ortodoks is (soos martelare) (Forbes 1995:249). Teen die middel van die 2de eeu word die ideaal van gemeentelike profesie, dat elke gelowige ’n profeet is, egter nog gehandhaaf, hoewel daar tekens is dat ’n groeiende institusionalisering dit stelselmatig vervang. Stander (1986:60) argumenteer egter oortuigend dat die vroeë kerk Montanisme nie verwerp het oor sy klem op profesie nie, maar oor die inhoud van sy profesieë wat sake beklemtoon het wat nie vir die kerk aanvaarbaar was nie. Sulke kwessies het die volgende behels: dat Christene droë kos moes eet; nie wyn mog drink nie; allerlei reëls moes nakom wanneer hulle vas wat geen verband met Bybelse voorskrifte gehad het nie; verkieslik nie moes trou nie; dat ’n tweede huwelik verbode was; en die verwagting van die tweede koms wat tot Christus se heerskappy in Frigië vir 1 000 jaar sou lei (Ward 1972:57). Dié nuwighede het die kerk na die beweging as die “Nuwe Profesie” laat verwys. Hierteenoor het die ortodokse kerk geargumenteer dat die Christene juis die voortsetting van ware profesie verteenwoordig, teenoor Montaniste wat nie ware profete gehad het nie.45 Dit was dus nie die beoefening van die charismata wat die Montaniste onaanvaarbaar vir die Christene gemaak het nie (Stander 1986:61).
Die Didache (ongeveer 90 n.C.) verwys na ’n profeet as iemand wat “in die Gees” spreek (11:7–12; Aune 1983:310), wat aandui dat sodanige geïnspireerde uitsprake orakulêr was. Die teks verwys ook na inwonende en rondreisende profete, maar meer aandag is aan die laaste groep gegee (10:7; 11:1–12; 13:1–7). Gemeentes moes let op die vrug van die profeet se lewe by die beoordeling van die persoon, en nie die geleentheid vir profete skep wat vir finansiële gewin die woord spreek nie. Waar profete ’n bewese bediening gehad het en aan die gemeente verbonde was, moes hulle materieel ondersteun word (Holmes 2007:343–344). Ignatius, biskop van Antiogië (vroeë 2de eeu) beskryf hoe hy by geleentheid in sy prediking in Filadelfia ervaar het hoe die Heilige Gees deur hom praat en die onenigheid in die gemeente aan hom openbaar (Ign. 7:1–2). Hy skryf dat hy onbewus was van die probleem wat die profesie ontketen het.
Die Herder van Hermas (Ποιμὴν τοῦ Ἑρμᾶ; vroeë 2de eeu) bevat ’n reeks visioene wat aan die Gees toegeskryf word, asook riglyne oor hoe om tussen ware en vals profete te onderskei (hoofstuk 11). Irenaeus (Adversus Haereses 5.6.1) erken die bestaan van profesie in sy dag en spreek hom uit teen mense wat die gawe verwerp.
Die kerkvader Origenes verwerp, in reaksie op die Montaniste, alle vorme van ekstase, waansin of beswyming as tekens van egte profesie, maar onderskryf tog die egtheid van sommige profetiese stellings (moontlik op grond daarvan dat dit deur omstandighede as eg bewys is). Hy verduidelik (Contra Celsum 7.3) dat profesie volg op die openbaring van dinge wat in ’n oomblik duidelik “gesien” en dan verklaar word, sodat die diepgaande waarhede aangaande Christus deur die Gees openbaar kan word. Origenes bring profesie in verband met die Bybel wanneer hy profesie identifiseer met ’n gawe om die Skrif te verklaar. Hy is die eerste skrywer wat die geopenbaarde begrip van die teks as ’n profetiese woord beskryf.
Uit die 3de eeu kom verskeie beskrywings van profetiese aktiwiteite, hoofsaaklik in gevalle waar mense in kerklike ampte op grond van ’n profesie aangestel is en in die beskrywing van visioene en profesieë wat gelowiges tydens vervolgings ontvang het. Die vervolgde kerk het die individu se geloofsbelydenis voor die magistraat toegeskryf aan die Heilige Gees wat profetiese woorde verskaf het (Matt. 10:19–20; Mark. 13:9–13; Luk. 12:11–12; 21:11–19). Sodoende het ’n noue band tussen profesie en martelaarskap ontstaan, veral in die kerk in Noord-Afrika (Robeck 1988:737). Ciprianus (Brief 16.4, 7) vertel hoe hy persoonlike leiding van die Gees in ’n profetiese woord ontvang het toe hy ’n besluit moes neem. Hy meld ook dat sy lyding en martelaarskap ook by ’n ander geleentheid so voorspel is (Lewe en passie van Ciprianus 7).
Namate die Bybelse kanon ontwikkel en uiteindelik vasgestel is, blyk dit dat al minder aandag aan profesie gegee is, veral in reaksie op radikale groepe soos die Gnostici en Montaniste se profetiese aansprake. Chrysostomus (Preek 29 oor 1 Kor. 12:1–2) skryf dat die gawes ophou funksioneer het, hoofsaaklik as gevolg daarvan dat dit soveel probleme veroorsaak het (De Wet 2007:243).46 Die aanname dat gelowiges ’n persoonlike openbaring van God kan kry, is al hoe meer betwyfel. Dit is tot so ’n mate as riskant en subjektief beskou dat die toekoms vir ortodokse Christendom gesoek is in die gesaghebbende en geslote kanon van die Skrif wat deur ekumeniese konsilies en biskoppe verklaar is (Maguire 2013:65).47
Daar is breedweg twee wyses om dié historiese ontwikkeling te verklaar: óf die Geestesgawes het ophou funksioneer toe die Bybelse kanon afgesluit is (vgl. Ruthven 1993), óf in die staatskerk van die 4de eeu het die spontane beweging van die Gees in die geformaliseerde en geritualiseerde strukture verlore geraak.48
4. Pinksterteologiese konsep van profesie49
Die Hervormers van die 16de eeu reageer enersyds op die Rooms-Katolieke Kerk se misbruike en dwaalleringe, maar andersyds ook op die Zwickauprofete onder leiding van Thomas Münzer. Calvyn (Calvin 2010:458) en sy navolgers beperk profesie tot Paulus en ander apostels se interpretasie van die Ou Testament en tot die kerk se verkondiging van Christus aan die hand van die Bybel. Profesie is die gawe om die Bybel korrek uit te lê. Dit gebeur nie spontaan nie. Dit kan nooit ’n vars, nuwe openbaring bevat nie. Pinksterteoloë, daarenteen, lees die Bybel vanuit ’n ander hermeneutiese hoek: die Bybel vorm nie ’n geslote kanon nie en die openbaring is nie voltooi nie. Die Bybel word eerder beskou as ’n uitnodiging aan die gelowige om onder inspirasie van die Gees daarin te vind wat God vir mense in Bybelse tye gedoen het, en wat God steeds vir die eietydse mens wil doen (Clark 1997:5–8). Hulle lees die Bybel met groot erns met die doel om te verstaan wat God daarin sê, maar laat nie toe dat die Bybel die fokus van hulle geloof, wat Jesus is, vervang nie.50 Die Bybel word die poort na ’n ware begrip van Jesus wat daarin bestaan dat Hy in en deur die Skrif ontmoet word deur die werking van sy Gees (Frost en Hirsch 2009:146).
Waar Protestante die afsluiting van die apostoliese era of Nuwe-Testamentiese kanon verbind met die beëindiging van die Geestesgawes, beskou Pinksterkerke die beëindiging daarvan eerder as teken van die verwording van die kerk sedert die laaste helfte van die 3de eeu. Hulle beklemtoon dat profesie vandag steeds ’n belangrike funksie vervul naas die beoefening van die ander gawes, wat hulle meen die vroeë kerk gekenmerk het.51
Die Azusastraat-herlewing het die naam Apostolic Faith Mission gekies om te beklemtoon dat hulle die eietydse ervaring van die Geestesdoop met spreke in tale as aanvanklike teken in restouratiewe terme beskou word. Dit verteenwoordig ’n voortsetting van wat die vroeë kerk beleef en die apostels geleer het. Die Nuwe Testament was vir hulle ook belangrik as die primêre skakel tussen die apostoliese tradisie oor Jesus en die Ou Testament as gesaghebbende invloed op die apostels se lewe. Daarom dien die Skrif as sleutel tot die beoordeling van eietydse profesie. Met die Skrif as norm word drie maatstawwe onderskei: die gesag van die profeet binne die gemeenskap (in groter gemeentes word mense wat ’n profesie wil bring, verplig om dit eers met die leiers te bespreek om die gemeente te beskerm);52 die gewilligheid van die profeet om die profesie aan die onderskeiding van die geloofsgemeenskap te onderwerp;53 en die inhoud van die profetiese woord.
Die gawe van onderskeiding funksioneer in die beoefening op twee vlakke: die gemeenskap onderskei deur die Gees of die "profesie" van God se Gees of ’n ander gees afkomstig is. Dit word ook gemeet aan die Skrif en spesifiek die apostoliese oorlewering, wat die bron van inligting oor Jesus verteenwoordig (Möller 1997:76–8).54 Pinksterkerke getuig dat die beoefening van die gawes van die Gees dikwels versoening in verhoudings, heling en gedragsverandering tot gevolg het. Vondey (2013:46) merk in dié verband op: “The charismatic dimension is not simply a performance of the imagination but the occasion where a person engaged in the spiritual life is transformed by the divine power of the Spirit to disengage from the demonic and to participate in the divine.”
Profetiese woorde het selde met toekomsvoorspelling te doen.55 Dit bevat eerder woorde wat die gemeenskap of ’n individu bemoedig, vertroos of waarsku, of die verborge dinge van mense se harte openbaar (Tertullianus, Adversus Marcionem 5:8). Watson (1992:144) meen Paulus beskou profesie as “primarily a Spirit-inspired declaration of the will of God for this congregation at this time”, ’n raak beskrywing van hoe Pinksterkerke daarna kyk. In die meeste gevalle is dit aan die plaaslike gemeente of groep, of ’n individu, gerig, eerder as aan die universele kerk.
Hoe ver strek die gesag van die eietydse profetiese woord? Calvyn (Calvin 2010:32–3) en talle “cessasionists” ná hom redeneer dat Hebreërs 1:1–2 aantoon dat alle profetiese gesag ophou bestaan het omdat God sy finale openbaring in Jesus Christus gegee het. Christus het nie bloot, soos die profete in die ou bedeling, ’n woord van God gebring nie, maar is die finale afsluiting. God het vir die laaste keer gepraat en daarom moet gelowiges nie, soos die Jode, tevrede wees met die Tora nie, maar voortbeur na Christus. Hulle beweeg nie verby die grense wat die apostels vasgestel het nie. Hulle moet die Anabaptiste, wat ’n verdere openbaring verkondig, nie verduur nie. Calvyn is hierin deur talle Skrifverklaarders nagevolg.
’n Verdere argument wat in dié verband aangevoer word, is die aanduiding in 1 Korintiërs 13:10 dat die volmaakte (τέλειον) wat gekom het, na Christus verwys: noudat die volmaakte gekom het, het profesieë opgehou (1 Kor. 13:8–9). Die aoristus subjunktiewe ἔλθῃ verwys egter na die oomblik in die toekoms wanneer die doel bereik sal word met die wederkoms van Christus. Dit sal die onvolmaaktheid wat die aardse lewe kenmerk, afskaf, omdat die doel daarvan uitgedien geraak het (Lenski 1963:566). Die onvolmaakte sieninge wat Christene deur middel van die gawes ontvang wat in die vorige twee verse genoem word, sal ook in volmaakte kennis verander wanneer gelowiges alles sien soos dit werklik is en ten volle ken soos God hulle ten volle ken (1 Kor. 13:12). Volmaakte kennis bestaan dus in ’n ontmoeting met die Een wat waarheid is (1 Joh. 3:2). Gawes bied ’n vlugtige blik op en voorafskaduwing van die volmaakte wat kom, soos die offerstelsel in die Hebreeuse Bybel heenwys na die kruisdood van Christus (Heb. 10:1–14) (Pratt 2000:234).
Cartledge (1991:19) se ondersoek na eietydse charismatiese ervarings toon dat profesie op verskillende wyses in die beoefening ontvang en oorgedra word: soms word die boodskap ontvang voor die geleentheid waartydens dit oorgedra word. Die spreker weet wat die inhoud daarvan is enkele minute, ure of dae voor die profesie uitgespreek word. In ander gevalle ontvang die persoon ’n deel van die boodskap en besef dat sy of hy moet begin praat voordat die res daarvan aan haar of hom oorgedra word. In die meeste gevalle is daar ’n impuls om te begin praat sonder dat ’n duidelike idee bestaan van wat die boodskap behels, en die boodskap kom dan tot die spreker soos dit uitgespreek word. Hierdie vroeë beginpunt beteken dat enige poging om eietydse profesie te beoordeel nie net op die handeling van die profetiese woorde mag berus nie. Dié aspekte maak dit moeilik om eietydse profetiese ervaring aan Bybelse of vroegkerklike ervarings te meet.
Vir Pinksterhistorici gaan dit in die kerkgeskiedenis om ’n hiërargiese ontwikkeling van die episkopaat wat profesie (en die ander Geestesgawes) gekaap het en gebruik het om dit tot die pouslike ex cathedra-uitsprake te verhef soos dit deur die Eerste Vatikaanse Konsilie (1869–1870) geformuleer is (Fahlbusch, Lochman en Mbiti 2005:33). In plaas daarvan om gesag in die priester (asook biskop en pous) te stel, verbind Protestante profesie met verklarende prediking en lering (Ness 1979:275–9). Binne die Pinkstertradisie word profesie egter gekoppel aan die spontane werking van die Gees in gelowiges om ’n woord buite die Skrif uit te spreek, alhoewel dit deur die geloofsgemeenskap aan die Skrifopenbaring gemeet moet word waar gelowiges hulle aan mekaar onderwerp en hulself onder die leiding van die Skrif as die uiteindelike gesag in alle geloofsake en lewe stel (Robeck 1988:740).56 Hierin wil Pinksterkerke kontinuïteit met die Nuwe-Testamentiese profesie handhaaf, maar ook met die Ou-Testamentiese profesie.57
Dit is duidelik dat die Nuwe Testament ’n gelykskakeling tussen die verskynsel in vroeë tye en die hede veronderstel, alhoewel daarop gewys is dat Nuwe-Testamentiese profesieë moontlik as van minder gesag beskou is, ten minste in vergelyking met die Skrifprofete se woorde wat in die Hebreeuse Bybel opgeteken is. Dit is ook duidelik dat die vroeë kerk profesie geken het en dat dit geïdentifiseer is in kontinuïteit met die Nuwe-Testamentiese verskynsel. Pinksterkerke beskou die voorkoms van profesie in hulle geledere in kontinuïteit hiermee. Hulle gebruik dan ook dieselfde terminologie om daarna te verwys en volgens Nuwe-Testamentiese voorskrifte te beoordeel.
5. Sintese
Die beoefening van profesie, soos in 1 Korintiërs geskets, verskil van profesie in die Hebreeuse Bybel, waar profete nie hul boodskap aan die volk se oordeel onderwerp het om te onderskei of dit aanvaarbaar was of nie. Die Joodse profete het die woord wat hulle gebring het, as gesaghebbend beskou. Profesie van die tipe waarvan 1 Korintiërs getuig, sluit nie die aanspraak in dat dit goddelike gesag besit nie, maar bevat wel materiaal wat die produk van openbaring blyk te wees en wat die gemeente opbou. Die beoefening word in hedendaagse Pinksterkerke voortgesit om profesieë te beoordeel voordat dit aanvaar word. Eietydse charismatiese profesie is dus nie onfeilbaar, foutloos of in enige sin absoluut nie. En selfs wanneer dit as eg beskou word, beteken dit nie dat mense of groepe die woord móét uitvoer nie. Die slotsom is dat die Nuwe Testament sowel as die vroeë kerk kontinuïteit tussen hulle beoefening van profesie en dié van die Hebreeuse Bybel voorsien het, wat nagevolg word deur Pinksterkerke as ’n gemeenskap wat die waardes en praktyke van die vroegste kerk wil herstel.
Bibliografie
Arndt, W., F.W. Gingrich, F.W. Danker en W. Bauer (reds.). 1979. A Greek-English lexicon of the New Testament and other early Christian literature: A translation and adaptation of the fourth revised and augmented edition of Walter Bauer’s Griechisch-Deutsches Wörterbuch zu den Schriften des Neuen Testaments und der übrigen urchristlichen Literatur. Chicago: University of Chicago Press.
Aune, D.E. 1983. Prophecy in early Christianity and the ancient Mediterranean world. Grand Rapids: Eerdmans.
Bartlett, M. 2012. 1 Corinthians. Pentecostal Bible Commentary Series Book 6. Kindle, Bible Studies Online.
Barton, J. 2007. Oracles of God: Perceptions of ancient prophecy in Israel after the exile. Oxford: Oxford University Press.
Bergen, R.D. 1996. 1, 2 Samuel. Vol. 7. Nashville: Broadman & Holman.
Bezuidenhout, M.E.J. 1980. Pauliniese kriteria ten opsigte van die beoefening van die charismata: ’n Eksegetiese studie van 1 Kor. 12–14. Ongepubliseerde DD-verhandeling, Universiteit van Pretoria.
—. 1997. The Trinitarian nature of the Pauline criteria concerning the practice of the charismata. In Gräbe en Hattingh (reds.) 1997:93–104.
Bickle, M. 2008. Growing in the prophetic. Lake Mary: Charisma.
Boring, M.E. 1982. Sayings of the risen Jesus: Christian prophecy in the synoptic tradition. Cambridge: Cambridge University Press.
Brueggemann, W. 1997. Theology of the Old Testament: Testimony, dispute, advocacy. Minneapolis: Fortress.
Burgess, S.M. en G.B. McGee (reds.). 1988. Dictionary of Pentecostal and charismatic movements. Grand Rapids: Zondervan.
Calvin, J. 2010. Commentary on the Epistle of Paul the Apostle to the Hebrews. Transl. by J. Owen. Bellingham: Logos Bible Software.
Carson, D.A. 1987. Showing the Spirit. Carlisle: Paternoster.
Cartledge, M.J. 1991. Charismatic prophecy and New Testament prophecy. Themelios, 17(1):17-9.
Clark, M.S. 1997. The nature and authority of Scripture. In Gräbe en Hattingh (reds.) 1997:1–13.
Collins, J.J. 2015. Apocalypse, prophecy, and pseudepigraphy: On Jewish apocalyptic literature. Grand Rapids: Eerdmans.
Cronjé, F. 1981. Waarom Pinkster? Braamfontein: Evangelie.
Dennert, B.C. 2013. John the Baptist and the Jewish setting of Matthew. Ongepubliseerde DPhil-verhandeling, Loyola Universiteit, Chicago.
De Wet, C.L. 2007. The homilies of John Chrysostom on 1 Corinthians 12: A model of Antiochene exegesis of the charismata. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Pretoria.
Douglas, J.D. (red.). 1962. The new Bible dictionary. Leicester: IVP.
Du Toit, A.B. 1979. Die charismata – ’n voortsetting van die gesprek. Pauliniese kriteria ten opsigte van die beoefening van individuele charismata volgens 1 Korintiërs 12–14. Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 20(3):189–200.
Ellingworth, P., H. Hatton en P. Ellingworth (reds.). 1995. A handbook on Paul’s First Letter to the Corinthians. New York: United Bible Societies.
Ellis, E.E. 1978. Prophecy and hermeneutic in early Christianity. Grand Rapids: Eerdmans.
Evans, C.A. en S.E. Porter (reds.). 2000. Dictionary of New Testament background: A compendium of contemporary biblical scholarship. Downers Grove: IVP.
Fahlbusch, E., J.M. Lochman en J. Mbiti. 2005. Encyclopedia of Christianity. Boek 4, vert. G.W. Bromiley. Grand Rapids: Eerdmans.
Forbes, C. 1995. Prophecy and inspired speech in early Christianity and its hellenistic environment. Tübingen: Mohr.
Fourie, S. 1990. Prophecy: God’s gift of communication to the church. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika.
Freedman, D.N. 1997. Between God and man: Prophets in ancient Israel. In Gitay (red.) 1997:57–88.
Frost, M. en A. Hirsch (reds.). 2009. Re Jesus: A wild Messiah for a missional church. Sydney: Strand.
Gaffin, R.B. 1979. Perspectives on Pentecost: New Testament teaching on the gifts of the Holy Spirit. Phillipsburg: Presbyterian and Reformed.
Garrett, C. 1987. Spirit-possession and popular religion: From the Camisards to the Shakers. Baltimore: Johns Hopkins University Press.
Gitay, Y. 1997. Prophecy and prophets: The diversity of contemporary issues in scholarship. Atlanta: Scholars.
Goldingay, J. 2015. An introduction to the Old Testament: Exploring text, approaches and issues. Downers Grove: IVP Academic.
Gräbe, P.J. en W.J. Hattingh (reds.). 1997. The reality of the Holy Spirit in the church: In honour of F.P. Möller. Pretoria: J.L. van Schaik.
Green, E.M.B. 1975. I believe in the Holy Spirit. Grand Rapids: Eerdmans.
Grudem, W.A. 1978. The gift of prophecy in 1 Corinthians 12–14. Ongepubliseerde PhD-verhandeling, Universiteit van Cambridge.
Harvey, S. en S. Newcombe (reds.). 2013. Prophecy in the new millennium: When prophecies persist. Farnham: Ashgate.
Heliso, D. 2012. Divine Spirit and human spirit in Paul in the light of Stoic and Biblical-Jewish perspectives. In Marshall, Rabens en Bennema (reds.) 2012:156–77.
Hill, D. 1979. New Testament prophecy. Richmond: Marshall, Morgan en Scott.
Holmes, M.W. 2007. The apostolic fathers. Grand Rapids: Baker Academic.
Horton, H. [1934]1975. The gifts of the Spirit. Springfield: Gospel.
Johnson, A.F. 2004. 1 Corinthians. IVP New Testament Commentary Series. Leicester: IVP.
Langerman, J.L. 1983. Apostolic Faith Mission of South Africa: A revitalization of the theological concepts of church ministry. Ongepubliseerde DMin-verhandeling, Fuller Teologiese Seminarium, Pasadena.
Lederle, H.I. 1988. Treasures old and new: Interpretations of “Spirit-baptism” in the charismatic renewal movement. Peabody: Hendrickson.
Lenski, R.C.H. 1961. The interpretation of the Acts of the Apostles. Minneapolis: Augsburg.
—. 1963. The interpretation of St. Paul’s first and second epistle to the Corinthians. Minneapolis: Augsburg.
Louw, J.P. en E.A. Nida (reds.). 1996. Greek-English lexicon of the New Testament based on semantic domains. Vol. 1: Introduction and domains. New York: United Bible Societies.
Maguire, A. 2013. Prophecy: A perspective from the early church and the contemporary experience of a Methodist minister. In Harvey en Newcombe (reds.) 2013:57–73.
Mallone, G. 1983. Those controversial gifts. Londen: Hodder and Stoughton.
Marshall, I.H., V. Rabens en C. Bennema (reds.). 2012. The Spirit and Christ in the New Testament and Christian theology: Essays in honor of Max Turner. Grand Rapids: Eerdmans.
Matthews, M.M. 1979. “προφητεύω”. InArndt, Gingrich, Danker en Bauer (reds.) 1979:273.
Möller, F.P. 1975. Die diskussie oor die charismata soos wat dit in die Pinksterbeweging geleer en beoefen word. Braamfontein: Evangelie.
—. 1997. The work of the Holy Spirit in the life of the believers. Words of light and life 6. Pretoria: J.L. van Schaik.
Motyer, J.A. 1962. Prophecy, prophets. In Douglas (red.) 1962:1036–46.
Nasrallah, L.S. 2003. An ecstasy of folly: Prophecy and authority in early Christianity. Harvard Theological Studies. Cambridge, MA: Harvard University Press.
Nel, M. 1997. All who are led by the Spirit of God – The guidance of the Holy Spirit in the life of a believer: A sermon. In Gräbe en Hattingh (reds.) 1997:162–74.
Ness, A.W. 1979. The Holy Spirit. Vol. 1. Ontario: Christian Centre.
Niehr, H. 1998. Die Samuelbücher. In Zenger e.a. (reds.) 1998:210–5.
Nolland, J. 2005. The Gospel of Matthew. New International Greek Testament Commentary. Grand Rapids: Eerdmans.
Omanson, R.L. en J. Ellington. 2001. A handbook on the first book of Samuel. New York: United Bible Societies.
Petersen, D.L. 1997. Rethinking the nature of prophetic literature. In Gitay (red.) 1997:23–40.
Poloma, M.M. en M.T. Lee. 2013. The New Apostolic Reformation: Main Street mystics and everyday prophets. In Harvey en Newcombe (reds.) 2013, 75–88.
Porter, W.J. 2000. Music. In Evans en Porter (reds.) 2000:711–9.
Pratt, R.L. 2000. I & II Corinthians. Nashville: Broadman en Holman.
Prime, D. 2005. Opening up 1 Corinthians. Leominister: Day One.
Rabens, V. 2012. Power from in between: The relational experience in the Holy Spirit and spiritual gifts in Paul’s churches. In Marshall, Rabens en Bennema (reds.) 2012:138–55.
Riedecker, F. 1976. A linguistic key to the New Testament. Vert. C.L. Rogers. Grand Rapids: Zondervan.
Robeck, C.M. 1988. Gift of prophecy. In Burgess en McGee (reds.) 1988:728–40.
Ruthven, J. 1993. On the cessation of the charismata: The Protestant polemic on postbiblical miracles. Journal of Pentecostal Theology, Supp. 3. Sheffield: Sheffield Academic Press.
Smith, J.E. 1994. The minor prophets. Joplin: College.
Stander, H.F. 1986. Die besondere gawes van die Heilige Gees in die eerste vier eeue n.C. Silverton: Promedia.
Stein, R.H. 1992. Luke. New American Commentary 24. Nashville: Broadman and Holman.
Stuart, D.K. 2006. Exodus. Vol. 2. Nashville: Broadman and Holman.
Utley, R.J. 2004. The Gospel according to Luke. Vol. 3A. Marshall: Bible Lessons International.
Vondey, W. 2013. Pentecostalism: A guide for the perplexed. Londen: Bloomsbury T&T Clark.
Von Rad, G. 1965. Old Testament theology: The theology of Israel’s prophetic traditions. Vol. 2. Vert. D.M.G. Stalker. Edinburgh: Oliver and Boyd.
Ward, R.S. 1972. Spiritual gifts in the apostolic church: Their nature, function and cessation in the light of the New Testament evidence. Prahran, Victoria: Fraser and Morphet.
Watson, N.W. 1992. The first epistle to the Corinthians. Londen: Epworth.
Witherington, B. 1995. Conflict and community in Corinth: A socio-rhetorical commentary on 1 and 2 Corinthians. Grand Rapids: Eerdmans.
Yocum, B. 1976. Prophecy: Exercising the prophetic gifts of the Spirit in the church today. Ann Arbor, Mi.: Servant.
Zenger, E. e.a. (reds.). 1998. Einleitung in das Alte Testament. 3de uitgawe. Stuttgart: Kohlhammer.
Eindnotas
1 Die studie word tot klassieke Pinksterkerke beperk wat uit die 1906-Azusastraatherlewing in die VSA gegroei het.
2 Gaffin (1979:59) merk op: “Prophecy is not, at least primarily or as one of its necessary marks, the interpretation of an already existing inspired text or oral tradition but is itself the inspired, nonderivative word of God.”
3 Moses se verskoning dat hy stadig van spraak en tong is, hou volgens Stuart (2006:133–4) nie verband met ’n spraakdefek, onvermoë om as openbare spreker op te tree of dat hy Egipties vergeet het nie, maar staan in diens van die oordrewe nederige kulturele styl van die antieke Nabye Ooste wat veral sigbaar word wanneer iemand ’n belangrike taak ontvang. Ander voorbeelde kom voor in Gen. 18:26; 1 Sam. 9:21; 18:23; 24:14; 26:20; 2 Sam. 9:8; 1 Kon. 3:7; 2 Kon. 8:13; Jes. 6:5; 56:3; Jer. 1:6; 1 Kor. 2:3; Ef. 3:8 en 1 Tim. 1:15.
4 Moses word beskou as die profeet par excellence en non pareil omdat hy, van al Israel se leiers, die hoogste vlak van intimiteit met die Godheid bereik (Deut. 34:10–12) en die rol en verantwoordelikheid van profeet die beste uitleef in die opdrag (תּוֹרָ֥ה) wat hy vir die volk by Sinai gee. Hy is uniek onder die profete en dien as maatstaf vir die ander (Freedman 1997:59).
5 Moses is die profeet in wie se gedagte God insigte plaas met die doel om dit aan mense oor te dra, terwyl Aäron Moses se segsman is eerder as die direkte ontvanger van die openbaring van God. “Thus God was the revealer; Moses, the prophet; and Aaron, the public repeater” (Stuart 2006:138).
6 In die woorde van Omanson en Ellington (2001:188): “Earlier, prophets were primarily wandering ecstatics, that is, persons whose minds and emotions were dominated by powers beyond their control (see 10:5, 10), whereas seers were visionaries, that is, people who saw what other people could not see.” Die Hebreeuse Bybel verwys na “siener”(חֹזֵ֥ה ;רֹאֶ֔ה), “profeet” (נָבִ֣יא) en “man van God” (אִישׁ־הָאֱלֹהִ֗ים) (Petersen 1997:24).
7 Joël gryp sy gehoor se aandag aan deur retoriese vrae te stel wat luisteraars uitdaag om ’n onafhanklike opinie oor iets te vorm. Die profeet wil sy luisteraars oortuig dat die krisis wat Juda tans beleef, van ongekende omvang is, en daarom daag hy die leiers van die volk en inwoners uit om enige voorval uit die volk se geskiedenis te soek wat met die huidige rampe vergelyk kan word (Smith 1994: Joël 1:2–4).
8 Die terme vir die instrumente is almal in die enkelvoud. Dit beteken nie noodwendig dat slegs een van elke instrument aangedui word nie. Omanson en Ellington (2001:206) meen dat dit eerder na vier groepe instrumente verwys. Dit is egter nie uit die teks duidelik nie.
9 Die inspirasie van God se Gees neem so volledig van Saul beheer dat hy soos ’n ander soort mens optree, soos Omanson en Ellington (2001:207) dit stel: “[T]he spirit of the Lord will change you into a different person.”
10 In Bergen (1996:210) se woorde: “[I]n a climactic tour de force, the Spirit of God made a mockery of the most ardent efforts of David’s opponent … when he actually arrived at his destination, the Spirit of God so overwhelmed him that ‘he stripped off his robes’ (v. 24) as he continued to prophesy …” Dit beklemtoon die feit dat Israel se magtigste burger deur die krag van God onderwerp en magteloos gestel is. Die indruk word geskep dat die profetiese gawe Saul oorweldig sodat hy willoos optree.
11 Koning Saul sonder sy koninklike klere in die teenwoordigheid van God se Gees bied ’n kragtige beeld van die profetiese oordele wat Samuel vroeër gevel het (vgl. 1 Sam. 15:23, 28). God het Saul as koning verwerp; nou laat God nie toe dat hy sy koninklike klere in sy teenwoordigheid aan het nie. Saul het die woord van JHWH verwerp (15:23); in ’n ironiese wending in die vertelling word hy nou verdoem om segsman van daardie woord te word (Bergen 1996:211). Saul is kaal, wat ’n skande in die eer-en-skaamte-kultuur van die Antieke Nabye Ooste is.
12 Niehr (1998:215) noem dat die Deuteronomistiese Geskiedwerk ná 586 v.C. geskryf is, wat die kritiek op die koningskap verstaanbaar maak. Die ballingskap sorg dan ook daarvoor dat die Dawidiese monargie tot ’n val kom. Die verwagting van ’n Messiaanse koning is op sy eie ’n stuk kritiek op die historiese monargie in Israel. Die Messiaanse dinastie sal onverganklik wees, aldus 2 Samuel 7.
13 Brueggemann (1997:643) kontrasteer profete se Jahwistiese etiek met die Deuteronomistiese etiek en beskryf hoe profete se Jahwistiese eskatologie in apokaliptiek ontplooi.
14 Brueggemann (1997:622) merk op dat die opkoms van individue wat met gesag praat wat verder as hul eie gaan, “an odd, inexplicable, originary happening in Israel” is wat met hulle “out of the ordinary”-uitsprake kanale van kommunikasie tussen JHWH en God bou. As kanale spreek hulle woorde wat hulle glo van JHWH kom en as voorbidders bring hulle Israel se dringende versoeke na God.
15 Jesus se profetiese voorspellings sluit sy aankondiging in dat die koninkryk van God besig is om aan te breek, dat Jerusalem en die tempel vernietig sal word, dat Hy sal sterf en uit die dood opgewek sal word, en dat oordeel op mense en groepe mense wag en dat Hy spoedig sou terugkom (Aune 1983:171–84).
16 Aune (1983:339) beskryf die vroeë Christene se benutting van die Ou Testament om Jesus se koms, bediening en dood te interpreteer as “charismatiese eksegese” en noem dat dit op twee veronderstellings gebaseer is: dat die heilige teks verborge of simboliese betekenis bevat wat slegs deur goddelike insig aan die interpreteerder openbaar kan word, en dat die ware betekenis van die teks gevind word in eskatologiese profesieë waarvan die interpreteerder meen dat dit in sy/haar eie dag vervul sal word. Charismatiese eksegese is dus eskatologies en geïnspireerd (of gedryf deur die Gees). Charismatiese eksegese word ook in verband gebring met die Qumran-gemeenskap soos gedemonstreer in byvoorbeeld die Habakkuk-kommentaar asook in Joodse profesie in die Hellenistiese en Romeinse periodes (Aune 1983:339).
17 Προφήτης speel ook in die Grieks-Romeinse wêreld ’n rol. Forbes (1995:189) beklemtoon egter dat daar semantiese verskille met die Nuwe-Testamentiese gebruik van die term voorkom. Die term word ook binne totaal verskillende konseptuele raamwerke gebruik. Grieks-Romeinse profesie is hoofsaaklik ekstaties, gekenmerk deur gewelddadige toevalle (seizures) wat chemies, fisiek of psigologies deur die individu self aangebring word. Dit verskaf neutrale inligting oor die toekoms. Joods-Christelike profesie is nie ekstaties nie en kan nie self teweeggebring word nie, terwyl dit die morele wil van God verklaar (Forbes 1995:281). Nuwe-Testamentiese profesie kan eerder met die Hellenistiese verskynsel van μαντική in verband gebring word (Forbes 1995:190), terwyl “profeet” na ’n amptelike posisie in die hiërargie van orakulêre sentrums verwys. Die implikasie is dat die agtergrond van die Nuwe-Testamentiese gebruik van die term in die Septuaginta asook die Judaïsme van die sinagoges gesoek moet word, eerder as in die Hellenistiese omgewing van die vroeë Christendom (Forbes 1995:217).
18 Waarvoor drie terme ingespan word: χαρισμάτα – genadegawes, geskenke wat gratis gegee is; διακονια – dienswerke, bedieninge; ἐνεργημάτα – gevolge, optredes bereik deur energie te verbruik.
19 Profete se gesag is duidelik aan dié van die apostels onderworpe, alhoewel hulle die openbaring van God bemiddel (Maguire 2013:61). Apostels en profete is beskou as boodskappers van God, met die onderskeid dat profete interpreteerders was van spesifieke uitsprake wat hulle by die Gees gehoor het, terwyl die apostels met die gesag beklee was om God se wil in ’n meer algemene sin aan die kerkgemeenskap te verkondig (Bickle 2008:39). Bickle beklemtoon dat Efesiërs 4:11 oor bedieninge handel wat lede van die kerk beoefen, eerder as ampte wat verkose mense beklee.
20 Grudem (1978:264–6) tref ’n verdere onderskeid en wel tussen die tydelike en permanente karakter van profesie. Profesie is tydelik wanneer iemand in die gemeente ’n openbaring ontvang; iemand besit nie die gawe van profesie nie, maar kan by geleentheid ’n profetiese openbaring bring. Profesie is (semi-)permanent wanneer mense oor ’n uitgebreide periode gebruik word om ’n geïnspireerde woord te bring, dikwels ook oor gemeentegrense heen.
21 Möller (1997:62) meen dat die Nuwe Testament afsonderlik van “profete” en “profesie” praat, maar dat die twee nie geskei kan word nie. Die geestelike gawe wat nie as ’n bediening funksioneer nie, is onbybels (1 Pet. 4:10), omdat die gawe gegee is met die oog op dienswerk van een of ander aard (1 Kor. 12:7). ’n Bediening sonder geestelike gawes beteken dat die bekleër van die amp nie in samewerking met God en deur God se krag dien nie, maar die taak vanuit eie krag en vaardigheid verrig.
22 Boring (1982:58–63) verwerp Von Harnack se interpretasie dat die Didache rondreisende profete geken het. Hy meen Von Harnack het rondreisende profete as deel van vroeë Christelike profesie oorbeklemtoon en dat hul invloed baie kleiner was. Dié profete, soos Agabus, Judas en Silas (Hand. 15:22), se bediening sou dan wyer as die plaaslike gemeente strek. Hulle reputasie as betroubare profete het veroorsaak dat hulle ook in ander gemeentes kon bedien. Forbes (1995:243) kom egter tot die gevolgtrekking dat slegs van gemeentelike profesie (“congregational prophecy”) in die Nuwe Testament sprake is. Gemeentelike profesie bestaan volgens Yocum (1976:89–101) uit orakels wat ’n direkte woord vanaf God verteenwoordig, uit aanmoediging, geïnspireerde gebed, profetiese sang, openbaring, persoonlike profesie, visioene, profetiese aksies en talespraak gepaardgaande met interpretasie.
23 Nie almal stem saam dat 1 Korintiërs 12–14 se bespreking van profesie tot die erediens beperk moet word nie. Gaffin (1979:58) argumenteer dat dié deel van toepassing is op profesie in die geheel, soos dit in die Korinte-gemeente gefunksioneer het, in terme van die geleentheidswoord en die profeet se werk. Uit die brief is dit egter duidelik dat Paulus die (rondreisende of residensiële) profete hier uitsluit, soos blyk uit 1 Kor. 12:12–14; 25-29; 14:5; 16, 19, 23–35 wat duidelik aandui dat die konteks vir die gesprek die erediens is. Nasrallah (2003:29–32) ondersoek die charismata in verband met die wyd-voorkomende Grieks-Romeinse verskynsel van ’n wye verskeidenheid van nierasionele kennis: drome, orakels, ekstases en so meer, en dan beskryf sy dit as sosiale verskynsels met eksplisiete sosiale funksies, om grense te definieer, gesag te konstrueer en verskille te bestuur.
24 Kyk Rom. 8:9 (εἰ δέ τις πνεῦμα Χριστοῦ οὐκ ἔχει, οὗτος οὐκ ἔστιν αὐτοῦ: as iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan hom nie). Pinksterteoloë redeneer oor die algemeen dat die mens deur die Gees weerbaar word (Joh. 3:5–8) en dus as ’n gelowige die Gees het, terwyl daar ’n verdere ondervinding is, bekend as “doop met” (Hand. 11:16), “uitstorting van” (Hand. 2:17–18, 33; 10:45), “gawe van” (Hand. 2:38; 10:45; 11:17; 15:8), “koms van” (Hand. 1:8), “gevul wees met” (Hand. 2:4), “ontvangs van" die Gees (Hand. 2:38; 10:47) of van die Gees wat “op mense val” (Hand. 11:15). Die terme word duidelik afwisselend vir dieselfde ervaring gebruik (Gaffin 1979:13). Dat daar ’n nabekering-, tweede-seën-ondervinding is wat vir alle gelowiges deur alle eeue heen bedoel is en nie slegs die Pinksterdagervaring beskryf of die ondervinding van die vroegste kerk is nie (Gaffin 1979:22), vorm die kern van die Pinksterbeweging (Cronjé 1981:69). Die onderskeid tussen die gelowige wat die Gees het en die Geesvervulde mens wat getuig van die doop of vervulling met die Gees, word nie duidelik in Pinksterteologie omskryf nie, omdat die Nuwe Testament nie ’n duidelike onderskeid tref nie (bv. 1 Joh. 2:20, 27 wat na gelowiges verwys wat die Gees het en alles weet [οἴδατε πάντες], sonder die kwalifikasie dat hulle die ervaring van die Geestesdoop deelagtig geword het).
25 Hier funksioneer die onderskeid tussen “profesie” as ’n geleentheidswoord en “profeet” as ’n amp moontlik waar “profeet” saam met “apostel” genoem word, soos in Ef. 4:11 die geval was.
26 Sommige meen dat die verwysing na die “volmaakte” na die vasstelling van die kanon of na die einde van die apostoliese era verwys, wat dan impliseer dat die gawes ophou funksioneer – die sg. beëindigingsbenadering (“cessationist view”). Pinksterteoloë stem saam met Carson (1987:69–71) dat Calvyn reeds gemeen het dat dit na die wederkoms van Christus verwys wat die volmaakte sal bring. Volgens Paulus se opmerking in 1 Kor. 13:9 is gelowiges onvolmaakte kanale waardeur God se woord na die gemeente kom. Mallone (1983:44–5) verduidelik dat mense se motiewe en denke altyd die kommunikasie sal belemmer wat die profeet aanspoor om met nederigheid en bewing te praat. Grudem (1978:145–9) verduidelik dat profesie slegs ’n blik op die onderwerp kan bied en dat profete slegs ’n indirekte en beperkte openbaring ontvang. Wat hulle ontvang en sien, is ook dikwels moeilik om te verstaan en te interpreteer.
27 Forbes (1995:238) maak die belangrike opmerking dat die doel wat Paulus vir profesie uitspel, verstaan moet word binne die konteks van die bespreking van spreek in tale (glossolalie) in die volgende vers: “[D]ie een wat praat, spreek nie tot mense nie maar tot God … hy uiter geheimenisse met (sy) gees … hy wat in ’n taal spreek, bou (net) homself op.” Paulus kontrasteer dan hiermee profesie wat dien tot opbou van die gemeente. Aune (1983:19) merk op dat Paulus se beskrywing van die funksie van profesie sosiologies van aard is. Die vraag bly wat die sosiale funksie van vroeë Christelike profesie behels het.
28 Johnson (2004:259) som die probleem met spreek in tale duidelik op: “Prolific, simultaneous, uninterpreted tongues speech and prophetic speech (vv. 26–31) produced a disordered, unintelligible worship service that virtually prevented the growth of the congregation into Christian maturity and the evangelistic witness of the gathered group.” Paulus se hiperboliese verwysing na “as almal profeteer” (ἐὰν δὲ πάντες προφητεύωσιν) dui op die ideaal dat elke Geesvervulde gelowige ’n profeet sal wees. Dit is ’n vervulling van Moses se versugting in Numeri 11:29.
29 Maguire (2013:61) beklemtoon dat Paulus ’n voorkeur vir profesie het, veral wanneer daar besoekers in die erediens is. In die meeste gemeentes van Pinksterdenominasies word dit ook so geleer en beoefen. Daarmee saam moet egter op grond van 1 Korintiërs 14 genoem word dat alhoewel profesie en spreek in tale doelbewus gekontrasteer word en profesie meer waarde in die erediens het om mense op te bou, spreek in tale wat geïnterpreteer word op dieselfde vlak lê as profesie en dieselfde doel dien, t.w. om gelowiges op te bou. Profesie en spreek in tale hoort saam en komplementeer mekaar, lei Gaffin (1979:56-8) af. Wat profesie en spreek in tale met mekaar verbind, is dat beide woordgawes is.
30 Ellis (1978:6–15) meen πνευματικοί verwys na mense wat met Geestesgawes toegerus is, en ook die gawes van geïnspireerde spraak en lering het. Hulle is die leiers van die vroeë gemeentes, alhoewel hy nie ontken dat profesie in die vroeë kerk ook by geleentheid voorgekom het waar lidmate deelgeneem het nie. Ellis (1978:27) meen 1 Korintiërs 11 is aan dié groep “broers” gerig en dat dit verklaar hoekom dit verskil van 1 Korintiërs 14:33–36 – ’n argument wat nie sin maak nie.
31 Die Pinksterbeweging se klem op die deelname van alle gelowiges, gebaseer op die aanname dat alle gelowiges sonder uitsondering profete en priesters is, lei tot die verwerping van tradisionele hiërargiese-leierskapspatrone ten gunste van onafhanklike vorme van organisasie, omdat dit die gawe van die Gees is wat geestelike gesag vestig en nie die amp in die kerk nie. Die demokratiese en egalitariese tendense berus op die idee van die geestelike salwing van alle gelowiges, insluitend vroue en mense sonder enige formele teologiese opleiding (Vondey 2013:116–7).
32 Bartlett (2012:256) definieer “onderskeidinge van die geeste” (διακρίσεις πνευμάτων) as onmiddellike openbaring aan die Geesvervulde oor die ware aard en oorsprong van ’n spesifieke geestelike manifestasie, wat profesie, spreke asook uitleg van tale insluit (Nel 1997:172). Die gawe behels nie insig in ’n ander mens se hart of gedagte, foutvindery of die onderskeiding van iemand se sielkundige of geestelike probleme nie. Dit behels die onderskeid tussen watter gees/Gees in die erediens aan die werk is.
33 1 Korintiërs 14:29 verduidelik dat “die ander” profesie moet beoordeel (οἱ ἄλλοι διακρινέτωσαν). Sommige meen “die ander” verwys na Geesvervuldes wat ook deelneem aan die erediens deur hulle profetiese gawes of die profete wat aan die gemeente behoort of daar besoek aflê, maar in die lig van Paulus se woorde in 1 Tessalonicense 5:21 verwys dit eerder na almal in die gemeente, insluitend die profete (Ellingworth, Hatton en Ellingworth (reds.) 1995:322; vgl. Forbes 1995:265–9 vir volledige bespreking van argumente). Du Toit (1979:194–200) som Paulus se kriteria vir die onderskeiding wat spesifiek ten opsigte van profesie benodig word, op as ’n konfessionele kriterium dat Jesus die Here is (Rom. 12:6), as diens aan die liggaam van Christus, liefde, die opbou van die gemeente, nuttigheid, ordelikheid en toepaslikheid.
34 Alhoewel Lukas verskeie kere hierna verwys, bied die teks baie min inligting oor hoe dit gedoen is, omdat dit nie verslae bevat met die direkte woorde wat gebruik is nie (Forbes 1995:222).
35 Lenski (1961:666) maak die interessante opmerking dat “in die naam van Jesus Christus” nie verklaar moet word as “op gesag van” nie, maar eerder as “in verband met die openbaring van Jesus Christus”, want “ὄνομα designates the revelation by which Jesus Christ is known so that we rely on him” (Lenski 1961:106).
36 Witherington (1995:630) meen ἀνευρόντες word hier soos in Lukas 2:16 (en 4 Mak. 3:14) gebruik. Het die Gees by monde van Christene in Tirus werklik vir Paulus vertel om nie na Jerusalem te gaan nie, dieselfde Gees wat hom verplig het om in die eerste plek soontoe te gaan (Hand. 19:21; 20:22)? Witherington meen dat δια nie in ’n kousale sin gebruik word nie, maar in toevallige sin. Die Gees inspireer mense om te praat en sommige dring by Paulus aan om nie Jerusalem toe te gaan nie. Die Gees het immers voorspel wat daar op Paulus wag (Hand. 20:23), en dit noop sommige Christene om Paulus af te raai om te gaan.
37 Dit hou verband met Petrus se doel met sy verwysing daarna dat die werk van die Gees ’n teken is dat die eskatologiese era begin het, en dat die belofte van die era waarvan die Hebreeuse Bybel getuig, nou in die lewens van Jesus se volgelinge vervul word. Die punt van Joël se profesie is dat nie net sommiges nie, maar al God se mense in die eskatologiese era die Gees sal besit en toegerus sal wees vir getuienis of diens met verskeie gawes.
38 Utley (2004: Luk. 1:15) meen dat “vervul met die gees” in die Hebreeuse Bybel God se mag beskryf wanneer God mense bemagtig (soos in die bou van die tabernakel; Eks. 28:3; 31:3; 35:31, 35). In die Nuwe Testament word dit ’n idioom vir die krag en teenwoordigheid van die Here by die volk (Ef. 5:18).
39 Matteus sluit nóú aan by die profete van die Hebreeuse Bybel wanneer hy hier byvoeg “die profete wat voor julle was” (Matt. 5:12: οὕτως γὰρ ἐδίωξαν τοὺς προφήτας τοὺς πρὸ ὑμῶν). Dit beklemtoon, sonder om dit uit te spel, dat die Christendom in kontinuïteit met die godsdiens van die Hebreeuse Bybel staan. Die vers kan op twee wyses interpreteer word, verduidelik Stein (1992:203–4): gelowiges moet bly wees omdat hulle God se koninkryk met die profete sal deel, of omdat hulle vervolging hulle verseker dat hulle inderdaad God se volk is, omdat God se volk op soortgelyke wyse vervolg is. Die tweede interpretasie moet verkies word omdat dit ooreenstem met Luk. 6:26. Lukas verwys ook elders na die vervolging van die profete (Luk. 4:24; 11:47–51; 13:33–34; Hand. 7:52).
40 Alhoewel sommiges meen dat alles wat as visioene in die boek aangedui word, op werklike openbaringservaring gebaseer is, is die visioene eerder ’n kombinasie van ’n profetiese ervaring en ’n literêre verwerking. Aune (1983:275) meen tereg dat ’n poging om die twee aspekte van mekaar te skei haas onmoontlik is.
41 Samuel, Esegiël en Jeremia het egter noue bande met die heiligdom gehad. In Juda, en veral Jerusalem, word priesters en profete dikwels in dieselfde asem genoem asof hulle besig is om dieselfde doelwitte na te streef (Aune 1983:84).
42 Vergelyk Goldingay (2015:142) se definisie van profesie in die Hebreeuse Bybel.
43 Aksies wat die profetiese boodskap van profete simboliseer, is meer kenmerkend van profesie in die Ou Testament as van vroeë Judaïsme of die Christelike kerk. Simboliese aksies sluit magiese rituele of dramatisering van die profetiese boodskap in (1 Kon. 22:11; 2 Kon. 13:14–19; Jer. 27-28; Aune 1983:100).
44 Voorbeelde van profesie in die Nuwe Testament kan in 1 Kor. 12:3; 14:37–38; 15:51–52; 2 Kor. 12:9; Rom. 11:25–26; 1 Tess. 3:4; 4:2–6, 15–17; 2 Tess. 3:6, 10, 12; Gal. 5:21b; Hand. 7:55–56; 11:28; 13:2, 9–11; 16:17; 18:9–10; 21:11; 27:23–4 gevind word (Aune 1983:249–74).
45 ’n Onbekende skrywer wat in die 4de-eeuse Eusebius se Historia Ecclesiastica of Historia Ecclesiae (5:17:4) aangehaal word, skryf dat Paulus beveel het dat die gawe van profesie tot die wederkoms in die hele kerk moes bly.
46 Chrysostomus skryf dat die betekenis van 1 Korintiërs 12:1–2 onduidelik is as gevolg van die “onkunde oor die dinge waarna verwys word en hulle beëindiging”. Het die geestelike gawes of die aanbidding van afgode opgehou? Dit was waarskynlik nie afgodsdiens nie, ten spyte van die kerkstaat se vervolging van nie-Christelike afgodsdiens. Dit lyk asof Chrysostomus eerder meen dat die geestelike gawes in die gemeente ophou bestaan het. Die feit is egter dat Chrysostomus na sommige gawes soos wonderwerke en genesing verwys in terme van hulle funksionaliteit in die gemeente van sy dag (De Wet 2007:65).
47 Ward (1972:57) noem dat die kerk op Montanisme reageer deur by sy Konsilies besluite te neem wat op die Skrif gebaseer is; dat God se profete openbarings ontvang het terwyl hulle by hulle volle verstand was en nie in die verwarde en fanatiese ekstase wat Montanisme kenmerk nie; dat daar geen verwagting bestaan het dat enige verdere openbarings buite die Skrif ontvang kan word in die ortodokse kerk nie; en dat die buitengewone gawes nooit as ’n permanente besitting van die volk van God beskou is nie. Die gawes het uitgesterf toe die begaafdes (apostels) in die eerste eeu uitgesterf het. Stander (1986:14) spreek sy verbasing tereg uit dat sodanige afleidings gemaak word sonder dat skrywers die moeite doen om die vroeg-Christelike geskrifte, insluitend die dokumentasie van sinodebesluite, te gaan fynkam.
48 Stander (1986:9–14) bespreek moderne sieninge rondom voortsetting van die geestelike gawes in die vroeë kerk. Die standpunte sluit in dat die gawes opgehou het selfs nog voor die einde van die Nuwe-Testamentiese tyd, of na die apostoliese tyd, of teen die middel of einde van die tweede eeu n.C., of in 381 met die Eerste Konsilie van Konstantinopel. Nog ander beweer weer dat die gawes periodiek deur die eeue heen hul verskyning gemaak het, of deur al die eeue beoefen is. Dié uiteenlopende standpunte word deur teologiese veronderstellinge eerder as ’n behoorlike ondersoek na die vroeg-Christelike geskrifte gerugsteun. Stander (1986:89) toon aan dat vooraanstaande teoloë en kerkleiers van die ortodokse vroeë kerk aanvaar het dat die geestelike gawes steeds ná die Nuwe-Testamentiese era voortbestaan het.
49 Akademici vind dit moeilik om die eietydse verskynsel van profesie in die Christelike kerk te evalueer weens die gebrek aan beskikbare materiaal daaroor (Cartledge 1991:19).
50 Vondey (2013:36) meen dat eietydse beoordeling die Pinksterbeweging tot charismatiese ekstremisme verwring. Verskynsels soos dans, spring, skree en ander emosionele uitbarstings word gebruik om ’n beeld te skep van ’n radikale, vals gedrag van ’n misleide groep (Garrett 1987).
51 Pinksterteologie skryf die eb en vloed van profesie in die kerkgeskiedenis toe aan die voorkoms van profesie by nuwe (en dikwels gemarginaliseerde en selfs vervolgde) godsdienstige sektes en die byna konsekwente afwesigheid daarvan by die ontwikkeling van geïnstitusionaliseerde gesagstrukture (Poloma en Lee 2013:79).
52 Vgl. Didache 11.8: “Nie almal wat in ’n gees praat, is ’n profeet nie behalwe hy wat die gedrag van die Here openbaar. Van sy gedrag sal jy dus ’n ware en valse profeet van mekaar kan onderskei” (eie vertaling).
53 Vgl. Didache 11.2: “As die leermeester self verdraai is en ’n ander leer verkondig met die doel om hierdie dinge te verwoes, moenie na hom luister nie maar as sy leer reg en kennis van die Here vermeerder, ontvang hom as/soos die Here” (eie vertaling).
54 Die antwoord wat 1 Korintiërs bied op die vraag aan watter gees ’n openbaring toegeskryf moet word, behels vyf kriteria: die Gees sal altyd bely dat Jesus Christus die Here is (1 Kor. 12:1–3); die Gees se openbaring sal tot voordeel van die gemeente strek (1 Kor. 12:4–11); dit sal tot dienswerk lei (1 Kor. 12:12–30); liefde sal die motivering vir alle Geesgedrewe gedrag wees; en gelowiges sal opgebou word (1 Kor. 14:1–40). Kyk Bezuidenhout (1980:143–318; 1997:95–104).
55 Die siening dat profesie uitsluitlik met die toekoms en spesifiek die einde van die wêreld te make het, bly ongelukkig hardnekkig voortbestaan, soos Collins (2015:54) opmerk.
56 Möller (1997:92) se opmerking weerspieël die Pinksterteologiese standpunt dat profesie en prediking nie identies is nie, maar dat daar tog ’n belangrike verband tussen prediking en profesie bestaan. Profesie is nie ’n voorbereide boodskap nie, maar word direk deur die Gees openbaar. Prediking word deur middel van nadenke oor die Skrif ontwikkel. Na die mate waarin ’n preek die openbaring van die Gees bevat, het dit ’n profetiese karakter. Die prediker mag ook in die loop van die aflewering van die preek onvoorbereide stellings maak wat aan haar of hom deur die Gees openbaar word, sodat die preek deur profetiese woorde ondersteun word (vgl. 1 Kor. 2:4). Profesie het te doen met nuwe openbaring, nie die menslike verklaring van vorige openbaring of ander materiaal nie. Green (1975:170–1) stel dit so: “The men of the first century knew preaching and teaching when they heard it, and they knew prophecy as well. The two are different … It is one thing to prepare one’s address in dependence on the Spirit, and to preach it in the power of that same Spirit; it is quite another thing to find the Spirit taking over and speaking directly from Christ through you, in words that you had never intended to use at all.”
57 Pinksterteoloë verskil oor die vraag of profesie ingelei moet word deur die woorde wat die profete van die Hebreeuse Bybel gekenmerk het: “So spreek JHWH.” Agabus begin sy profesie volgens Hand. 21:11 met “Die Heilige Gees sê”. Teoloë wat meen dat so ’n inleiding vermy moet word, argumenteer dat die inleidingswoorde mense hulle vrymoedigheid ontneem om die gawe van onderskeidinge toe te pas. Maar alle profesieë moet onderskei word, ongeag die inleidingswoorde. Inleidingswoorde dui vir die gemeentelede aan dat die persoon in die naam van die Here praat. Aan die ander kant is die woorde ook nie werklik nodig nie, omdat mense sal kan onderskei dat die “profesie” van die Here kom (Möller 1997:96).
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.
The post Profesie in die Hebreeuse Bybel, die vroeë Christendom en eietydse Pinksterkerke: ’n Vraag oor kontinuïteit en diskontinuïteit appeared first on LitNet.